Nuwe Stories 2 by Leti Kleyn and Suzette Kotzé-Myburgh by Leti Kleyn and Suzette Kotzé-Myburgh - Read Online

Book Preview

Nuwe Stories 2 - Leti Kleyn

You've reached the end of this preview. Sign up to read more!
Page 1 of 1

Nuwe Stories 2

Saamgestel deur

Suzette Kotzé-Myburgh & Leti Kleyn

Human & Rousseau

Voorwoord deur die samestellers

Die bloed en sweet en wilskrag van skryf

Vanjaar is ons met Nuwe Stories pens en pootjies in die kuberruim. Danksy ’n toegewyde ruimte op LitNet het alles rondom die bundel digitaal gebeur, en dit was heerlik om met die bekendmaking van die finaliste hul foto’s op die internet te sien en te wonder: Watter storie pas by wie?

Die afronding van die verhale is verlede jaar geografies bepaal: al die finaliste in die Pretoria-omgewing het na Jeanette Ferreira se werkswinkel gegaan en almal in die Kaap na myne. Ons moes dit vanjaar anders aanpak, en ek en Leti het elkeen tien verhale vir die bundel gekies om deur die digitale skaaf-en-skuurproses te neem.

En kyk, daar is behoorlik geskaaf en geskuur. Die verhale is uitmekaargetrek, omgedop, uitgeskud en weer aanmekaargesit. Met behulp van comment-blokkies moes my groep telkens hoor: komma in (of uit), skrap – onnodig, let op die perspektief, cliché, cliché, cliché, ’n moeilike spelling soos dié moet jy altyd opsoek, pasop vir te veel adjektiewe, wat wil jy eintlik hier sê?, show me, don’t tell me, jou slot is treffend, maar … En so aan en so voort. En die skrywers het gesnoei en gestoei en gewerk en hulle stories pragtig blink gepoets.

Soos verlede jaar het hulle my weer verras met uitdagende en uiteenlopende temas. Die leegheid van ’n lewe van te veel. Wat honde te doen het met egskeiding. ’n Blaadjie uit die boek van Petrus, daardie oerverraaier. My naam is Chamonique en ek is mooi. ’n Sondagmiddagbesoeker wat nie is wat jy dink hy is nie. ’n Prostituut langs die grootpad. The trials and tribulations of contraception in South Korea. Ma + huisvrou = desperaat. Lente is dit tyd om die pad te vat. Seks, drugs en bloed.

Hier is ’n klompie jong mense wat daardie moeilike, opwindende, eensame, kreatiewe, frustrerende, verrykende ding aanpak wat skryf genoem word. Hulle sal hulself nog verwens dat hulle ooit begin het, maar terselfdertyd sal hulle nie hul gretige vingertjies van die rekenaar of tablet se toetsbord kan afhou nie. Hulle sal skryfhoekies inrig en skryfkursusse bywoon; hulle sal goeie en slegte en te veel raad kry oor skryf; hulle sal party dae nie ’n bruikbare woord skryf nie en ander dae ’n boek vol; hulle sal ander skrywers se werk lees en jaloers wees, of dink: ek kan beter; hulle sal day jobs hê omdat skryf nie genoeg geld inbring om van te lewe nie. Hulle sal nie ophou nie.

En hulle sal aanhou om ons, die lesers, se lewens in te kleur en te paljas. Skrywers is mos towenaars.

Sterkte, julle! Ek sien julle in die volgende kortverhaal of boek.

Suzette Kotzé-Myburgh

Julie 2013

Daar het al amper ’n tradisie in die letterkunde ontstaan dat daar by samestellings uit die werk van debutante ’n groter verantwoordelikheid by die samestellers lê – om keuses te regverdig, besluite te verdedig, tekortkominge en tendense uit te wys, rigting aan te dui en so meer – as by die jong skrywer – om ’n verhaal of gedig te produseer wat op eie bene kan staan en wat vir die skrywer die nodige lof kan inoes omdat hy/sy kan skryf, nie omdat hy/sy onder die hand van die mentor geleer het om die perfekte teks te produseer nie. Dit gaan hier dus vir my nie om die saak van die begeleiding nie, eerder om die geslaagdheid van die eindproduk. En dit kan die lesers self bepaal.

Deesdae is die moontlikhede vir skryfopleiding legio. Daar is aanlynwebtuistes wat skryfopleiding bied, sowel as aanlynskryfskole met manuskripontwikkelingsdienste, uitgewers wat optree as ontwikkelaars van debuutskrywers deur publikasies en werksessies, skrywers wat dag of week lange skryfkursusse aanbied, handleidings vir skryfontwikkeling, nie-formele opleiding deur skryfkursusse aan ’n universiteit (bv. die ATKV se Skryfskool) en formele tersiêre onderrig aan universiteite (voor- en nagraads). Die aspirantskrywer kan kies en keur uit al die moontlikhede (skryfopleiding het ook ekonomiese waarde verkry en is nou ’n betaaldiens soos enige ander).

Nuwe stories is m.i. ’n soort afstandsonderrigskryfkursus. ’n Heen en weer stuur van verhale met kommentaar en insae en aanbevelings van die samestellers om te herskryf, by te werk en te verbeter. Die verskil hier is dat die lesers die proses aanlyn kon volg, soos die kykers episodes van die Big Brother-reeks. Die jong skrywer kom nou in die kuberwêreld te staan om voor aanhangers en belangstellendes te slaag of te faal. ’n Poging om die nuwe literêre kubersuperster te word. Maar steeds staan die waarde van die gedrukte verhaal in boekformaat ver bo dié van die kuberruim se suksesse uit, want eers as jy die boek met jou kortverhaal in die hand het, kan jy voel dat jy werklik nou as skrywer gearriveer het.

Die mentor en die skryfkompetisie, die aanmoediging en die skryfontwikkelingsgeleenthede is alles belangrike elemente om nuwe skrywers te ontwikkel, maar die jong skrywer moet ook weet dat om werklik ’n skrywer te wees, jy ’n fanatiese leser moet wees. Jy moet weet wat jou voorgangers probeer doen én reggekry het. Jy moet by bestaande tradisies kan aansluit of daarvan kan wegbreek. Jy moet die reëls ken alvorens jy dit wil minag of verbreek. Jy moet die wilskrag hê om die hele benoude bedryf met ’n enkele verhaal op sy kop te wil draai. Jy moet weet watter gereedskap gebruik word om ’n verhaal aanmekaar mee te timmer in die bittere ure van die nanag as daar iets gesê moet word, maar die woorde nie reg op die bladsy wil kom lê nie. En jy moet weet dat skryf bloed en sweet en moeite en tyd en baie, baie deursettingsvermoë vra.

Dit is verblydend om te sien hoe baie inskrywings voorgelê is, selfs al is die gehalte van ’n groot klomp van die verhale nou nie altyd iets om oor opgewonde te raak nie. Dit is lekker om te sien watter grootse temas jong skrywers steeds aangryp en tot die skryfdaad dwing. Dit is ’n plesier om te sien hoe hard dié jong skrywers aan die ontwikkeling en verfyning van hulle kortverhale gewerk het. Maar bo alles verdien Human & Rousseau ’n pluimpie dat die uitgewery in moeilike ekonomiese tye steeds belê in die ontwikkeling van jong skrywers in gedrukte formaat.

Leti Kleyn

Julie 2013

Desperate housewife • Frederick J. Botha

Sy vat ’n sluk van haar koffie – swart, sonder melk of suiker, soos die nuwe dieetplan teen die yskas voorskryf. Met ’n sug sak sy voor haar rekenaar neer. Vandat haar wekker vanoggend afgegaan het, was dinge net chaoties. Sy moes haar man en drie kinders uit die bed en reg vir werk en skool kry. In die geharwar moes sy ook ’n Lewensoriëntering-taak help klaarmaak, omsendbriewe teken, Poena die foksterriër kos gee en haar man na sy karsleutels help soek.

Karen van Loggerenberg dubbelklik op die Word-ikoon. Sy kyk hoe ’n nuwe dokument voor haar oopgaan. Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe en begin dan tik:

Hy draai haar om met ’n drif wat onbekend is vir haar. Stadig en sensueel begin hy haar nek lek, tot by haar hals. Behendig volg sy tong die roete af ondertoe. Dit laat hoendervleis op haar vel uitslaan. Sy tong trakteer haar tepels, twee parmantige rosyntjies wat instinktief op sy aanraking reageer. Dan lek hy verder tot by haar naeltjie.

Die font van die teks pla haar. Times New Roman lyk tog so banaal. Sy verander dit na Arial Narrow. Tevrede tik sy verder:

Hy druk haar plat op die kombuistafel. Met sy heupe forseer hy haar bene oop. Haar hele liggaam tril in afwagting. Sy is skielik bewus van sy prominente geslag wat haar kloppend en koorsagtig tegemoetkom. Sy weet dat hy haar gaan gee waarna haar lyf al so lank hunker. Sy trek hom stywer teen haar vas en gee haar volkome aan hom oor.

Karen van Loggerenberg bloos vir haar gedagtes, maar terselfdertyd ervaar sy ’n gevoel van ekstase. Sy wens Hannes wil haar behandel soos Fabio, die Don Juan in die erotiese kortverhale wat sy in die geheim skryf. Fabio met die welige bos swart hare, groen oë, aristokratiese neus, sensuele mond, six-pack, gespierde boude en die libido van ’n jong stoetbul. Toe Lena en Koos laas week by hulle kom braai het, het sy en Lena te veel Springbokkies gedrink en het die wulpse Karen skielik in haar ontwaak. Hannes het haar van die braai af aangegluur oor sy al hoe uitbundiger gelag het vir Lena en Koos se bedpraatjies.

Toe hulle ná die braai in die bed klim, het sy haar styf teen Hannes vasgedruk, haar groot sagte borste teen sy moesierug en haar huisvrouhande wat so sensueel as moontlik teen sy harige bors afbeweeg tot by die spaarwiel wat hy om sy middel saamdra.

Nie vanaand nie, ek is hardlywig, het Hannes gesê, die bedlampie afgeskakel, gesug en kliphard gepoep.

Karen van Loggerenberg is al twee-en-twintig jaar lank getroud met ’n man wat seksueel hardlywig is. Sy is al gewoond aan hierdie blokkasie, wat kort ná die geboorte van hul jongste kind gekom het.

Karen se selfoon lui. Kaptein, span die seile, sing Kurt Darren. Ja, Hannes van Loggerenberg, dink sy, as jy maar net jou dekselse seil vir my wil span.

Sy antwoord: Hallo, Lena.

Hallo, liewe vriendin, hoe gaan dit?

Kan nie kla nie. Hoe gaan dinge daar by jou?

Jong, vriendin, ek vat mos nie grond nie! Hoërskool Monument het vir Kosie ’n rugbybeurs aangebied, so ons is nou natuurlik druk besig om sy laaste goed reg te kry. En Leentjie se danseksamen is mos oor twee maande en dan is dit ook nog ’n hele gedoente om haar matriekafskeidrok klaar te kry. En dis mos nie asof dit maklik is om ’n afspraak by Simon Rademan te kry nie. Ek weet nie hoe ek al my draaitjies gaan kry nie. Ek is ’n bol senuwees, vriendin. ’n Bol senuwees, sê ek vir jou!

Ja, ek verstaan, sug Karen. Sy weet maar alte goed waarvan Lena praat, maar die aansitterigheid in haar vriendin se stem irriteer haar vandag.

In elk geval, liewe vriendin, ek dog ek gee jou gou ’n tinkle om seker te maak dat jy nog saamgaan Skouspel toe. Hierdie jaar s’n gaan blykbaar die beste ooit wees. Ek sidder om te dink dat ons dit moet misloop.

Karen voel weer daardie opgewondenheid in haar binneste roer. Sy kan dit al klaar sien: sy in die voorste ry, met Nicholis Louw of Snotkop wat reg voor haar op die verhoog staan en sy heupe ritmies in haar rigting pomp. Huisgenoot Skouspel is ongetwyfeld die hoogtepunt van haar jaar. Dis die een naweek in die jaar wat sy van Hannes verwag om huis-huis te speel en vir die kinders te sorg.

Maar natuurlik, Lena! Jy weet ek mis dit vir niks!

Fantasties! Net een probleempie, liewe vriendin. Jy weet mos ek kan soos in glad nie met die rekenaar werk nie, wat nog te sê kaartjies aanlyn bespreek. En nie Koos of die kinders het die geduld om my te wys hoe nie. En boonop is ek so druk besig, jy weet mos. Ek sal eenvoudig nie die tyd hê om dit by Computicket te gaan bespreek nie.

Karen weet waarop Lena afstuur. As dit nie anders kan nie, kan ék seker maar die kaartjies gaan bespreek.

Is jy sekertjies, liefste vriendin? Ag, jy is ’n engel! Wil jy dan nie sommer die bespreking vir die gastehuis ook maak nie? Terwyl jy dan nou besig is. Ek sal sommer dat Koos die details van die plek vanaand vir jou SMS. Ek sal met jou regmaak as ons die naweek ry.

Karen weet dat Hannes nou weer vir haar ’n ellelange preek sal afsteek oor sy toelaat dat Lena haar misbruik, maar sy vind dit moeilik om vir Lena nee te sê. Sy vind dit moeilik om vir enigiemand nee te sê.

Dis reg, Lena, ek gee nie om nie.

Ag, jy is ’n engel van ’n vriendin, Karen van Loggerenberg! Maar nou ja, laat ek totsiensies sê, ek wil nie die besige huisvrou weghou van al haar moederlike pligte nie.

Toe Karen die rooi knoppie op haar selfoon druk, voel sy skuldig. Soos ’n Sondagskoolmeisie wat in die pastorie betrap word dat sy met die predikantseun vry. Sy wonder wat Lena sal sê as sy moet weet van haar skrywery – erotiese kortverhale helder oordag! Nog erger, wat sal Hannes en die kinders sê?

Sy probeer verder skryf, maar haar gedagtes bly dwaal. Sy onthou dat sy nog ’n draai by die winkels moet gaan maak om sjerrie en suurlemoensap te koop. Sy het op ’n nuwe Huisgenoot-wenresep afgekom wat sy wil uittoets: ’n geurige sjerrie-sampioensop. Ten spyte van haar dieetplan gaan sy haarself dit gun om net vir vanaand in te gee.

Haar oog vang die Best Mom in the World-kouse wat sy saam met haar pienk Crocs aanhet. Ag wat, as huisvrou en ma van drie het sy tog die reg om soms ontspanne en informeel te lyk, en ook om só in die openbaar te verskyn.

Sy skrik toe sy op die rekenaarskerm sien hoe laat dit al is. Sy sal moet wikkel as sy vandag nog hierdie kortverhaal wil klaarkry. Oor ’n paar uur moet sy die kinders gaan oplaai by die skool, en dan begin die gejaag weer tussen dramaklasse, rugby, ballet en hokkie. En sy moet nog voor dan by die winkels ook uitkom! Sy vat ’n sluk van haar koffie, wat teen dié tyd al yskoud is.

Voor sy verder tik, vang haar oog haar weerkaatsing in die rekenaarskerm: ongewaste hare waarin die grys al duideliker wys, die sakke onder haar oë, die lagplooie om haar mond wat dieper keep. Dan kyk sy na haar naels wat tot in die lewe afgebyt is. Sy kyk vinnig terug na die toetsbord en tik verder:

Hy beur teen haar aan, haar harde tepels teen sy bors. Sy haak haar hakke agter sy boude in. Sy dringende beweging tussen haar bene in maak dat sy haar naels diep in sy rug inslaan. Sy snak na asem en byt sy skouer.

Haar