Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Uit die Beek 2015
Uit die Beek 2015
Uit die Beek 2015
Ebook773 pages6 hours

Uit die Beek 2015

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Uit die Beek is nie net die oudste Bybeldagboek in Afrikaans nie, maar die skrywer van hierdie 89ste uitgawe is ook die kleinseun van die oorspronklike skrywer. Attie van Wijk is ‘n bekende teoloog in eie reg, en hy bied met hierdie boek lesers weer eens die geleentheid om hulle elke dag by die vars water van die Woord te te verfris en voor te berei vir die dag wat voorlê.
Dié dagboek is geskik vir persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik.
Ontdek só dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateAug 20, 2014
ISBN9780796318121
Uit die Beek 2015
Author

Attie van Wijk

Attie van Wijk is ’n gesaghebbende en inspirasionele teoloog. Hy was prinsipaal van die Nehemia-Instituut en die Hugenote-Bybelinstituut op Wellington, asook Hoof van Bedienings van Bybel-Media en voorsitter van die Association of Christian Theological Schools. Hy en sy vrou, Wena, het vyf kinders wat in vyf verskillende lande woon, waar hulle almal aktief in diens van die Here staan.

Read more from Attie Van Wijk

Related to Uit die Beek 2015

Related ebooks

Related articles

Reviews for Uit die Beek 2015

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk

    Uit die

    Beek

         2015

    Attie van Wijk

    Lux Verbi

    Voorwoord

    Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. As jy die siklus die afgelope vyf jaar saam met ons deurloop het, het jy al 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Daarom is dit belangrik om ook die aandgedeelte elke dag te lees.

    Gebruik die Gebedsgids in die boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.

    Ds AJ van Wijk (sr) het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit Uit de Beek genoem, na aanleiding van Psalm 110:7 in die Nederlandse Bybel: Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen. ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons ons elke dag moet verfris by die vars water van die Woord. Sedert 1929 is dié oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie uitgawe is die 89ste. En ons sal sien dat die Bybel elke dag steeds byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. As jy hom wil kontak, sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com.

    In die Ou Testament lees ons vanjaar uit Levitikus, 1 en 2 Samuel, Job en Esegiël; en in die Nuwe Testament uit Lukas, Galasiërs, 1, 2 en 3 Johannes. Sondae lees ons, soos gewoonlik, uit die Psalms. Ons sal ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

    Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en om tydens huis­godsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julleself toe te pas.

    Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is.

    Sake vir daaglikse voorbidding

    Sondag: Die uitdra van die evangelie

    • Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees

    • Dat die hoorders daders sal word

    • Dat gelowiges toegerus sal word vir die week

    • Dat ongelowiges tot geloof sal kom

    • Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel

    Maandag: Opleidingsinstellings

    • Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik

    • Dat elke leerder gehalteonderrig sal kry

    • Dat dissipline herstel sal word

    • Dat die jeug reg gevorm sal word

    • Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard

    Dinsdag: Die jeug

    • Dat ouers die regte voorbeeld sal stel

    • Dat kinders die Here tuis sal leer ken

    • Dat kinders groepsdruk sal weerstaan

    • Dat kinders die regte keuses sal maak

    • Dat kinders mekaar na Jesus sal lei

    Woensdag: Owerhede

    • Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg

    • Dat die regering die regte besluite sal neem

    • Dat die parlement God sal verheerlik

    • Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag

    • Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn

    Donderdag: Sending en getuienis

    • Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige

    • Vir jul sendelinge en hul gesinne

    • Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef

    • Dat die Gees harte sal voorberei en verander

    • Vir die nodige finansies vir die werk

    Vrydag: Diens van barmhartigheid

    • Vir kundige hulp aan werkloses en armes

    • Vir bevryding uit die armoedespiraal

    • Vir die instellings wat mense probeer help

    • Vir die nodige finansies hiervoor

    • Vir elkeen wat in beproewing verkeer

    Saterdag: Herlewing

    • Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam

    • Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word

    • Dat die Heilige Gees kragtig sal werk

    • Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak

    • Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus

    Januarie

    Welkom by Levitikus

    Skrywer:

    •Dit is deel van die Tora, die wet van Moses (1:1).

    Eerste lesers:

    •Die boek is geskryf vir die Israeliete op reis na die beloofde land (nie vir die mense van die 21ste eeu nie).

    •Tradisioneel is Levitikus die eerste Bybelboek wat aan alle Joodse kinders geleer is, sodat hulle die verskriklikheid van sonde kon besef.

    Doel:

    •Hoe om met God versoen te word.

    •Hoe om in ’n sondige wêreld vir God te lewe.

    Hooftrekke:

    •Die verskillende offers (1-7).

    •Hoe die priesters aan God gewy is (8-10).

    •Hoe om gereinig te word (11-17).

    •Hoe om feestelik voor God te lewe (18-27).

    Let op na:

    •Ons het nie meer diereoffers nodig sedert Christus die finale offer geword het nie. Dié boek is dus net tydelik van krag. (Die Hebreërbrief verduidelik dit verder.)

    •Ons het nie meer priesters nodig nie. Elkeen is ’n priester sedert Christus die finale hoëpriester geword het.

    •Hierdie Bybelboek moet altyd saam met Hebreërs gelees word.

    •Dit vorm die kern van die Pentateug, en is in Christus vervul.

    Christus in Levitikus:

    •Die vyf soorte offers vertel elkeen vir ons meer van Christus.

    •Die werk van die hoëpriester op die Groot Versoendag verduidelik wat die Here Jesus uiteindelik vir ons kom doen het.

    •Christus se offer het die pad na God finaal oopgemaak.

    •Elke fees leer ons meer van Christus.

    Donderdag 1 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 1:1-17

    Nuwejaarsdag

    Begin reg!

    Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied … (1:2).

    GESELSVRAAG:

    Wat is die beste manier om ’n nuwe jaar te begin?

    Voorspoedige Nuwejaar! wens ons mekaar vandag toe. Ons bedoel seker dat dit liggaamlik, geestelik en finansieel met ons goed sal gaan. Maar as ons ’n bietjie daaroor nadink, besef ons gou dat ons wense nie enige verskil sal maak nie. Dit is net die Here wat ’n verskil kan maak. Daarom moet Hy ook deel wees van ons Nuwejaarsvierings. Hy moet die middelpunt daarvan wees. Levitikus begin sommer met die veronderstelling dat ons elkeen die Here wil eer in al ons doen en late. Ons wil die Here bly maak en dank.

    Levitikus is seker nie een van die geliefkoosde Bybelboeke nie. Min van ons sou vandag seker uit eie keuse hier begin het. Maar as die hele Skrif deur God geïnspireer is (vgl 2 Tim 3:16), het Hy ook hierdie boek met ’n doel aan sy kinders gegee. Levitikus praat met ons oor twee hoofsake: Hoe dien ons die Here reg? En: Waarom was dit nodig vir die Here Jesus om sy lewe aan ’n kruis vir ons te gee? Die brief aan die Hebreërs verwys gedurig terug na Levitikus. Dit help ons verstaan dat hierdie boek die gelowiges wil voorberei om te verstaan waarom ons Jesus nodig het.

    Waar baie van ons vandag ’n vleisie gaan braai, word ons daaraan herinner dat dit ook deel van ons aanbidding kan wees. (Al spot ons soms met die brandoffers as die kole – of die kok – te warm was!) Ons wil mos graag vanjaar vir die Here dankie sê. Hoe?

    GEBED: Here, ons loof en dank U aan die begin van 2015.

    Lees vanaand in Levitikus 2:1-16 hoe ons braaibroodjies ook deel van ons aanbidding kan wees.

    Vrydag 2 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 3:1-17

    Met Jesus aan tafel

    As iemand ’n maaltydoffer wil bring … (3:1).

    GESELSVRAAG:

    Hoe kan ons die Here by ons maaltye vereer?

    Hoekom moet ons hande vashou wanneer ons aan tafel bid? vra ’n besoeker se seuntjie. Dit is sodat die kinders nie begin eet voordat ons klaar gebid het nie, verduidelik een van die ander. Dit is baie goed om ’n gewoonte daarvan te maak om eers die seën te vra. Dit is opmerklik hoe min mense nog hierdie gebruik in restaurante vreesloos en openlik handhaaf.

    Afgesien van die brandoffers wat heeltemal verbrand is, was daar ook die maaltydoffers. ’n Gedeelte daarvan is verbrand, ’n gedeelte is aan die Leviete gegee om van te lewe, en die grootste gedeelte is deur die gesin self geëet. Jy het jou hand op die offerdier se kop gesit en daardeur gesimboliseer dat jy jou saam met die dier aan die Here wy. Ons bid dus dat ons die energie wat ons deur die maaltyd kry, ook sal gebruik tot eer van die Here. Elke maaltyd is dus deel van ons toewyding en diens aan die Here. Ons dien die Here elke dag, nie net Sondae nie.

    Ons almal is heeltyds in die Here se diens. Ons kan gerus saam dink hoe ons selfs ons maaltye deel van ons getuienis kan maak. Watter plek het die Here in ons alledaagse doen en late? Hoe kan ons maaltye ook vir ander mense tot seën wees? In die ou dae het sommige gelowiges telkens ’n ekstra plek gedek, ingeval iemand wat in nood is onverwags sou opdaag.

    GEBED: Dankie vir elke dag se kos, Hemelvader.

    Lees vanaand in Levitikus 4:1-12 hoe selfs onopsetlike sondes versoening nodig het. Wie het vir jou versoening bewerk?

    Saterdag 3 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 4:13-26

    Versoening vir nasionale sondes

    As die hele volk Israel onopsetlik sondig, en ’n misdaad teen die Here begaan sonder dat hulle weet dat hulle ’n gebod van die Here oortree … (4:13).

    GESELSVRAAG:

    Watter sondes is deesdae algemeen in ons land?

    Hoe sou ons land gelyk het as ons die Tien Gebooie sou omdraai en dan daarvolgens lewe? vra ek by geleentheid aan die gemeente. Die skokkende ontdekking was dat ons dan feitlik presies uitkom by wat tans in ons land aan die gang is. Dit lyk werklik asof die Tien Gebooie geen invloed meer in ons daaglikse lewe het nie. En die gevolg is alles is aan die verkeerd loop.

    Hier maak die Here voorsiening daarvoor dat die hele gemeente soms kan dwaal. Dit het al gebeur dat ’n kerkvergadering besluite neem wat hulle agterna ontdek het teen God se wil was. Ons kan maklik uit gewoonte of omdat ons in ’n sekere kultuur grootgeword het, dink dat alles in daardie kultuur reg is. Dit is nodig om elke keer weer na die Skrif te gaan kyk en onsself te toets. Dit kan gebeur dat die Here ons oortuig dat ons verkeerd was in sekere besluite of optredes. Dan moet ons dit bely en laat staan. Christus se eenmalige offer was groot genoeg om dit ook te dek.

    ’n Engelse vriendin het gereeld die ongemaklike vraag gevra: Maar is dit reg? Meermale moes ons bely dat ons optrede nie suiwer was nie.

    GEBED: Vergewe ons waar ons van u Woord afgedwaal het, Here.

    Lees vanaand in Levitikus 4:27-35 wat jy moet doen as iemand anders jou op sonde in jou lewe wys. Hoe doen ons dit vandag?

    Sondag 4 Januarie 2015 • Lees eers Psalm 23:1-4

    Die regte Leier

    Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam (23:3).

    GESELSVRAAG:

    Waarvoor het jy vanjaar krag en leiding nodig?

    Gee my krag! het tant Annie soms gesug as haar kinders die een of ander onhebbelikheid aangevang het. En as ons dink aan al die uitdagings wat vanjaar op ons wag, voel ons ook so. Ons weet dat die kanse gering is dat dinge vanjaar makliker sal wees as verlede jaar. Ons almal het die Here se krag nodig vir alles wat op ons wag.

    Dawid herinner ons daaraan dat ons Herder wel vir ons krag wil gee. Ons kan elke dag saam met Hom begin. Hy sal ons dra waar ons nie meer self kan loop nie. Maar omdat Hy die goeie Herder is, kan ons seker wees dat die paaie waarop Hy ons gaan lei, die beste vir ons sal wees. Ons kan dus hier aan die begin van die jaar besluit dat ons die regte paaie wil loop, sodat Hy daardeur geëer kan word.

    Kom ons word vandag ’n slag stil en ondersoek onsself. Wat kan ons verander? Wat is die regte paaie? Miskien gereelde huisgodsdiens saam met ons kinders of huishulp? Miskien meer betrokke raak by ons skole of by die tehuis vir bejaardes? Wat wil Hy deur ons in ons gemeente doen? Hoe kan ons ons kollegas of vriende ondersteun? Ons moet die regte voorkeure vir hierdie jaar kies. Skryf ’n paar neer op die laaste bladsy van hierdie boek. Dan kan jy aan die einde van die jaar gaan kyk hoe ver jy gevorder het.

    GEBED: Dankie vir u krag en leiding vir 2015, Here.

    Lees vanaand in Psalm 23:5-6 hoe die Christen se lewe elke dag ’n fees kan wees. Wat is jou aandeel aan hierdie fees?

    Maandag 5 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 5:1-10

    Die hoorder is ook skuldig

    Hy was ’n getuie daarvan, en daarom rus daar skuld op hom (5:1).

    GESELSVRAAG:

    Hoe kan ’n ander mens se vloekwoorde ons raak?

    As iemand anders die Naam van die Here as ’n vloekwoord gebruik, het dit tog niks met my te doen nie. Dit is sý sonde, nie myne nie, meen ’n katkisant. Ons was besig om te gesels oor die Heidelbergse Kategismus se vraag en antwoord 100. Daar word duidelik gesê as ons stilbly wanneer iemand anders sy Naam misbruik, is ons ook skuldig. En dan verwys hulle onder meer na hierdie vers.

    As ons na die nuwer vertalings van hierdie gedeelte kyk, kan ons dit ook anders verstaan. Die meeste vertalers dink aan iemand wat voor die hof gedaag word om onder eed die volle waarheid te vertel. As jy dan iets doelbewus verswyg, is jy self skuldig. Jy het nie die volle waarheid vertel nie.

    Ons word deesdae oordonder deur baie menings. Ons hoor ook baie vloekwoorde. Onwaarhede en skinderstories word met lus oorvertel. Soms weet ons wat die waarheid is, maar ons bly om die een of ander rede stil. Die Here wil ons leer dat die volle waarheid vir Hom belangrik is. Ons moet dus mooi dink hoe ons moet reageer as so iets gebeur. Wat doen ons as ander mense vloek of leuens vertel? Bly ons eenvoudig stil? Of sal ons dit waag om op te staan vir wat reg is? Ons almal is skuldig. Daarom moes Jesus ook die straf vir hierdie sondes op Hom te neem.

    GEBED: Ek staan skuldig, Here. Vergewe my om Jesus wil.

    Lees vanaand in Levitikus 5:11-19 hoe jy skuldig kan wees, al het jy iets uit onkunde gedoen of nagelaat. God het daarvoor voorsiening gemaak.

    Dinsdag 6 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 6:1-13

    Elke môre nuut

    Die vuur moet aanhou brand op die altaar; dit mag nie doodgaan nie (6:13).

    GESELSVRAAG:

    Wat alles moet ons elke dag doen?

    Ek onthou hoe my pa lank voor dagbreek elke oggend opgestaan, die kole in die ou houtstoof gaan aanblaas en nuwe hout opgepak het om die koffie­water mee te kook, en die as uitgedra het. Dan het hy daar langs die stoof gesit tot dit tyd word om die werksmense te gaan wakker maak, het ’n ou oom my eenkeer vertel. As ’n mens nie vuurhoutjies het nie, is dit ’n kuns om die vuur dag en nag aan die brand te hou.

    Van vers 9 af kry ons die opdragte aan die priesters en die Leviete. Net soos die lamp moes die offervuur dag en nag aan die gang gehou word, want God het dit self aangesteek (vgl Lev 9:24). Dit het inderdaad bly brand tot die volk na Babilon weggevoer is (vgl Jes 31:9). Dit moes die simbool bly van God se teenwoordigheid te midde van die volk. Dit was ook die simbool van hoe die priesters as tussengangers tussen die mense en God gedurig aan diens was. Elke oggend moes die as weggeneem en op die regte manier buite die kamp gegooi word (vgl Lev 6:11). Die nuwe brandhout en offers moes dan vir die nuwe dag gepak word.

    Ons diens aan die Here is ook nie net vir Sondag bedoel nie. Elke dag moet ons ons voor die Here reinig en voorbidding doen. Moenie dat jou gebedstyd in die slag bly nie. Jesus bid vir jou.

    GEBED: Dankie dat U vandag ook vir my voorbidding doen.

    Lees vanaand in Levitikus 6:14-23 hoe die graanoffer aan die Here bedoel was om vir die priesters te sorg. Hoe sorg ons vir ons leraar?

    Woensdag 7 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 6:24-30

    Aan die Here gewy

    Dit is ’n besondere gewyde gawe (6:25).

    GESELSVRAAG:

    Watter plekke word vandag as heilig beskou?

    Hy hou hom nou so hoogheilig, maar ek weet hoe oneerlik hy in die sakewêreld is, skinder iemand. Die woord heilig het in ons tyd ’n negatiewe betekenis gekry. Oorspronklik het dit beteken: ten volle aan die Here gewy. Die Bybel leer ons op 73 plekke dat die Here heilig is en dat ons daarom ook heilig moet wees. Dit beteken dat ons alle sonde moet vermy. Daar is nie so iets dat elke mens darem sy eie sondetjie kan hê nie.

    Hierdie sondeoffer was bedoel om die Israeliete elke dag te herinner dat sonde nie iets is om mee te speel nie. Die sondeofferdier is aan die noordekant van die altaar geslag (vgl 1:11) en sinspeel reeds op Christus wat aan die noordekant van Jerusalem as finale offer sou sterf. Alles wat met die sondeoffer te doen het, is spesiaal behandel om die volk te herinner dat dit volkome aan die Here gewy moes wees.

    Ons hoef nie meer hierdie soort offers te bring nie, want Jesus was die finale en volkome offer. Maar omdat Hy vir ons geoffer is, maak dit ons ook heilig, aan Hom toegewy. Ons moet dus altyd onthou, daar waar ons vandag in die skool of by die werk is: Ek behoort aan die Here. Ek is aan Hom toegewy. Ek moet vir Hom lewe. Ek is vir Hom baie spesiaal.

    GEBED: Here Jesus, dankie dat U U vir my gegee het, sodat ek toegewy aan God kan lewe. Help my vandag om dit te doen.

    Lees vanaand in Levitikus 7:1-10 hoe die offers bedoel was as die priesters se onderhoud.

    Donderdag 8 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 7:11-21

    Vars dankbaarheid

    Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer (7:15).

    GESELSVRAAG:

    Waarvoor kan ons vandag dankbaar wees?

    Chris wil nie hê dat ons ooit oorskietkos eet nie. Alles moet elke dag vars berei word, vertel ’n vriendin van haar man. Hy is ’n mediese tegnoloog in ’n staatshospitaal en is dus baie bewus van hoe maklik voedselvergiftiging kan intree as kos oorstaan. (By ons lyk die maaltyd soms soos ’n oorsig van die week!)

    Die Israeliete het natuurlik nie yskaste gehad nie. Vleis het nie lank gehou nie, tensy jy daarvan biltong kon maak. Maar met die volk wat op trek was en die skaarste aan sout, was dit ook nie juis ’n opsie nie. Elke dag se slagding is dus vars aan die Here gewy en dieselfde dag opgeëet. Baie van die wette in Levitikus was dus bedoel om die volk gesond te hou. Elke offer het gepaardgegaan met dank. En daar was baie om voor dankbaar te wees, al het die Israeliete ook maar maklik gekla, net soos ons.

    Ons dank aan die Here kan alte maklik in ’n onnadenkende rympie ontaard. Ons probeer dus om by elke ete iets vars in ons dankgebed in te bring om ons te help onthou met wie ons te doen het. Ons tafelgebed kan maklik iets word wat ons aframmel sonder om te dink wat ons sê, of terwyl ons met die een oor luister na die weervoorspelling. Wat is die nut van so ’n gebed?

    GEBED: Here, hou my ontmoeting met U elke dag vars.

    Lees vanaand in Levitikus 7:22-38 hoe die Here bepaal het dat die Leviete uit die volk se offers onderhou moes word.

    Vrydag 9 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 8:1-12

    Plegtige vergadering

    … en laat die hele gemeente ook by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaarkom (8:3).

    GESELSVRAAG:

    Wat is die grootste byeenkoms wat jy al bygewoon het?

    "Vir my was die wonderlikste byeenkoms toe die Mighty Men op oom Angus

    se plaas bymekaargekom het," vertel ’n vriend. Daar was ’n gees van eens­gesindheid en gebed, en baie mans het daardie naweek vir die eerste keer of by hernuwing tot oorgawe gekom. Maar daardie byeenkoms van tien­duisende sou maar sleg afgesteek het by die vergadering van ons Skriflesing.

    Die tabernakel het nie plek gehad om die hele gemeente te huisves nie. Sommige skrifverklaarders meen dat net die leiers van die verskillende stamme die volk daar verteenwoordig het. Hier word die ordening en wyding van Aäron en sy seuns beskryf. Die volgende 1 000 jaar was hulle verantwoordelik om as tussengangers tussen God en sy volk op te tree. Die hele volk moes weet wat hul werk was, en daarom het hierdie geleentheid in die openbaar geskied.

    Sedert Christus gekom het, het hierdie amp verval (vgl Heb 10:9-10), want nou is elke gelowige ook die priester van sy of haar huis (vgl 1 Pet 2:5, 9; Op 1:6). Jesus se finale offer het ’n einde gemaak aan die diereoffers (vgl Heb 10:14).

    Ons het nou die voorreg om elkeen self met God kontak te maak en vir ander voorbidding te doen (vgl Heb 10:19-22). Kom ons gebruik hierdie voorreg vandag.

    GEBED: Here, ons tree vandag in vir ons familie en vriende.

    Lees vanaand in Levitikus 8:13-24 hoe Aäron en sy seuns plegtig voor die volk as priesters bevestig is.

    Saterdag 10 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 8:25-36

    Vrede met God

    Die dinge wat vandag gedoen is op bevel van die Here, was bedoel om julle sonde te versoen (8:34).

    GESELSVRAAG:

    Hoe probeer mense voorberei vir die ewigheid?

    As jy vandag sou doodgaan, dink jy dat jy hemel toe sal gaan? was deel van ’n opname wat jongmense in die strate van New York gedoen het. Feitlik almal het gereken dat hulle hemel toe sou gaan. Hoekom sê jy so? is hulle gevra. Ek is darem nie so sleg soos party ander mense nie, was die mees algemene antwoord. Ek wonder wat sou die antwoorde wees as ons dieselfde vrae môre in ons gemeentes sou vra. Dit lyk vir my die meeste mense glo nou nog dat ons ons plek in die hemel kan en moet verdien. En dit is die grootste verskil tussen die goeie nuus van Jesus en al die ander godsdienste. Ons hoef dit nie te verdien nie. Christus het dit reeds vir ons verdien. Ons moet maar net glo.

    Al die seremonies wat Aäron en sy seuns moes deurgaan, was eintlik maar net om ons behoefte aan reiniging te onderstreep. Almal is sondaars. Niemand is goed genoeg nie. Daarom moes Jesus kom om die pad na redding vir ons oop te maak. Hy het ons sonde versoen, wat ons nie self kon doen nie, en die diereoffers ook nie (vgl Heb 10:4, 9-23).

    Ons sal vandag dalk ook geleentheid kry om te gesels oor versoening. Jesus het gekom om dit moontlik te maak: versoening tussen mense en versoening met God (vgl 2 Kor 5:19-20).

    GEBED: Dankie dat U ons met God versoen, Here Jesus.

    Lees vanaand in Levitikus 9:1-14 hoe Aäron begin het om sy amp te vervul. Wat doen jy vir die Here?

    Sondag 11 Januarie 2015 • Lees eers Psalm 24:1-6

    Myne?

    Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here … (24:1).

    GESELSVRAAG:

    Wat is werklik jou eiendom?

    Al wat ons eintlik ons eie kan noem, is ons sondes, merk ’n slimmerd by ’n Bybelstudiegroep op. En hy was heeltemal reg. Ons praat graag van ons huis, ons plaas, ons motor, ons kinders, ons geld, ensovoorts, maar ons kan dit alles maklik verloor. Selfs Steve Jobs is afgedank uit die maatskappy wat hy self gestig het. Ons moet altyd onthou dat alles wat ons het eintlik net aan ons geleen word. Ons moet dit vir die ware eienaar, die Here, bestuur.

    Die duiwel dink soms dat die aarde aan hom behoort (vgl Luk 4:6). Maar hy is verkeerd. Hy bly maar ’n leuenaar. Alles behoort aan die Een wat dit uit niks gemaak het (vgl Ps 24:2). Jy dink dalk dit is jóú vernuf en harde werk wat iets tot stand gebring het, maar selfs jou gesondheid, breinkrag en opleiding is maar net deel van God se genade aan jou. Jy het dit nie verdien nie.

    Die kerk behoort ook nie aan ons nie. Dit is die Here se liggaam. Ons saam vorm maar net die instrument wat die Here hierdie week wil gebruik om sy koninkryk te laat kom. Hy wil ons vandag toerus vir die uitdagings van hierdie week. En saam is ons beter. As ons die uitdagings saam aanpak, is ons soveel sterker. Ons het mekaar nodig. Daarom is dit so hartseer dat sommige mense probeer om die stryd alleen te stry. Hou jou oë oop vir hulle.

    GEBED: Here, ek wy my en alles wat myne is aan U.

    Lees vanaand in Psalm 24:7-10 hoe die Here die eintlike Koning oor alles is – ook oor hierdie week wat voorlê.

    Maandag 12 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 9:15-24

    As God verskyn

    Die magtige teenwoordigheid van die Here is toe aan die hele volk geopenbaar … (9:23).

    GESELSVRAAG:

    Vertel hoe jy op ’n keer van God se teenwoordigheid bewus geword het.

    Die slegte nuus is: Daar is nie ’n God nie; die goeie nuus is: Daar is nie ’n God nie, het die advertensie van ’n groep ateïste op ’n rooi Londense bus gelui. Hulle was oortuig dat God nie bestaan nie. Hulle kan dus doen wat hulle wil. Kan jy hulle antwoord uit jou eie ervaring?

    Die mense wat daardie dag by Aäron en sy seuns se wyding teenwoordig was, sou nooit so ’n stelling kon aanvaar nie. Hulle het geweet dat God wel bestaan. Sy magtige teenwoordigheid het gesorg dat hulle van vreugde uitgeroep en op hulle knieë (letterlik: hul gesigte) geval het in aanbidding. En tog het hierdie indruk nie ’n langdurige werking gehad nie. Hulle het maar weer van die Here afgedwaal.

    Ons wens soms dat die Here Hom weer so aan sy mense sal openbaar. Op Pinkstersondag het Hy dit gedoen in die vorm van vuur wat in tonge verdeel en op die gelowiges gekom het (vgl Hand 2:3). Dit het hul tonge losgemaak en hulle het vrymoedig van God se dade getuig. Die vuur wat God gegee het, moes altyd aan die brand gehou word. Dieselfde Gees van Pinkster leef in elke gelowige. Gee Hom die kans om jou aan die brand te steek.

    GEBED: Here, steek my aan die brand vir U!

    Lees vanaand in Levitikus 10:1-7 oor die groot gevaar van mensgemaakte vuur wat nie vir God aanvaarbaar is nie.

    Dinsdag 13 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 10:8-20

    God soek toegewyde diens

    Jy en jou seuns mag geen wyn of bier drink wanneer julle moet gaan diens doen … nie, want dan sal julle sterwe (10:9).

    GESELSVRAAG:

    Wat is die gevaar van alkoholiese drank?

    Net soos Moses swaar gepraat en vir Aäron nodig gehad het wanneer hy ’n boodskap moes oordra, so is wyn my Aäron om my die nodige vrymoedigheid te gee wanneer ek in die gemeente praat of bid, verduidelik een van die gemeentesusters. Dit het gemaak dat sy dinge gedoen en gesê het wat eerder kon gebly het. Dit het meer skade as goed gedoen. Maar sy kon dit nie self insien nie, omdat alkohol ’n mens se brein verlam.

    Vandag wonder ons waarom die Here juis hierdie enigste keer dat Hy direk met Aäron gepraat het, gekies het om oor alkoholiese drank te praat. En dit terwyl Aäron diep bedroef was oor sy seuns wat sopas wreed dood­gebrand het. Het dronkenskap dalk iets met hul roekelose en oneerbiedige optrede te doen gehad? Die Here verbied nie alkoholiese drank nie, want nie almal was nasireërs nie. Maar Hy verbied dit wanneer iemand diens doen in die gemeente (vgl Eseg 44:21; 1 Tim 3:3; 1 Pet 4:7).

    Ons lees in Jesaja dat die priesters van sy tyd dronk was toe hulle moes leiding gee (vgl Jes 28:7). Dit het die Naam van die Here groot skade aangedoen. God haat dit. Dalk moet ons twee maal dink voordat ons alkoholiese drank aan iemand aanbied. Die gevolge kan dalk verskriklik wees.

    GEBED: Here, hou my nugter in u diens.

    Lees vanaand in Levitikus 11:1-19 watter diere, visse en voëls vir die Jode as kos moes dien.

    Woensdag 14 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 11:20-38

    Wat eet jy nie?

    Verder is alle viervoetige wilde diere wat nie hoewe het nie, onrein (11:27).

    GESELSVRAAG:

    Watter soort kos sal jy nooit eet nie?

    Hierdie dis is darem heerlik. Ek wonder wat dit is, sê ’n toeris in Sjina aan sy maat. Hy probeer met die kok praat, maar dié kan net Sjinees verstaan. Pik-pik-pikkêk? vra die toeris terwyl hy na die dis wys. Toe gaan die lig vir die kok op. Hy skud sy kop. Woef-woef! verduidelik hy. En skielik kon die toeris nie verder eet nie.

    Al hierdie seremoniële wette klink vir ons vandag baie vreemd.

    Wat sou die doel daarvan wees? Daar is wel goeie higiëniese redes waarom sekere kosse in daardie omstandighede verbode was. Maar die hoofrede was seker dat die Israeliete anders moes wees as die volke rondom hulle. Hulle moes nie in die versoeking kom om soos die ander volke te doen nie, want dit sou hulle onvermydelik na afgodsdiens lei.

    Volgelinge van die Here Jesus kom uit elke volk en taal. Hierdie wette geld nie vir hulle nie. Jesus het alle kos rein verklaar (vgl Mark 7:9). Petrus moes leer dat alle kos aanvaarbaar is (vgl Hand 10:15). Hulle kon nie die Joodse gewoontes op die bekeerlinge uit ander kulture afdwing nie. Paulus moes Petrus by geleentheid sterk aanspreek omdat sy Joodse hart ’n struikelblok vir die evangelie geword het (vgl Gal 2:11-14). Paulus het geleer om hom by die plaaslike kultuur aan te pas ter wille van die evangelie (vgl 1 Kor 9:19-23).

    GEBED: Here, help my om te onderskei wat vandag reg is.

    Lees vanaand in Levitikus 11:39-47 hoe die Here die doel van dié vreemde wette verduidelik.

    Donderdag 15 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 12:1-8

    Die wonder van geboorte

    Hierdie wet is van toepassing op enige vrou wat ’n kind in die wêreld bring, of dit nou ’n seun is of ’n dogter (12:7).

    GESELSVRAAG:

    Hoe vier ons die koms van ’n nuwe baba?

    In my navorsing het ek gevind dat daar iets goddeliks gebeur in die ontwikkeling van ’n baba voor geboorte, vertel ’n mediese wetenskaplike. Hy het met die jongste tegnologie nagevors hoe ’n mens ontwikkel van een bevrugte sel tot ’n volledige mensie met al die liggaamsdele op die regte plek en met die regte vorm en funksie. Daar is soveel dinge wat verkeerd kan gaan, en tog word verreweg die meeste babas normaal gebore. Dit is wonderlik.

    Ons kyk maklik vas teen die onderskeid wat in hierdie gedeelte gemaak word ten koste van dogters. Hoekom is ’n ma twee maal langer onrein met ’n dogter as met ’n seun? Iets hiervan kom vandag nog voor in kulture in byvoorbeeld Sjina en Indië. Hierdie seremoniële wette geld in elk geval nie meer vir Christene nie (vgl Gal 3:28). Mans en vroue is gelyk voor God. Ons mag nie diskrimineer nie.

    Wat wel van belang is, is dat God belangstel in die baba en die ouers, van die eerste dag af. Dit is Hy wat die baba gevorm het (vgl Ps 139:13). Die baba moet aan Hom gewy word – in die geval van seuntjies was dit met die besnydenis (vgl Lev 12:3). Ná die koms van Christus word die seuns sowel as die dogters gedoop, in die plek van die besnydenis (vgl Kol 2:11-12). Hierdie gedeelte verklaar ook waarom Josef en Maria twee duiwe as offers gebring het (vgl Luk 2:24).

    GEBED: Here, ons wy ons en ons kinders ten volle aan U.

    Lees vanaand in Levitikus 13:1-8 hoe aansteeklike velsiektes in daardie tyd beheer is.

    Vrydag 16 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 13:9-23

    Basiese gesondheidsorg

    Die priester kan hom dan rein verklaar (13:23).

    GESELSVRAAG:

    Wanneer moet ons beslis dokter toe gaan?

    Wat kan ’n mens doen as jy siek word op ’n plek waar daar geen dokter is nie? is die vraag waarmee baie sendelinge in primitiewe gemeenskappe worstel. Daar is selfs boeke en internetwebwerwe beskikbaar om sulke mense te help. In die ou dae was daar net boererate om op terug te val, en daar is selfs versamelings van sulke boererate waaraan baie mense destyds geglo het.

    Die Israeliete was op trek deur die woestyn, met geen dokters in hul ge­ledere nie. Die priesters moes maar die rol van dokter ook speel. Hulle het wel besef dat sommige siektes aansteeklik is – vandaar die lang lys mediese voorskrifte wat aan die priesters gegee is. Diegene met aansteeklike siektes moes kontak met die gesondes vermy. Dit lyk asof hulle velsiektes uit Egipte saamgebring het.

    Vandag is ons geneig om hierdie hoofstukke oor te slaan, want kundige dokters is naby. Miskien hardloop ons dokter toe nog voordat ons gebid het. Ons kan egter weet dat ons gesondheid ook vir die Here belangrik is. Jesus en sy dissipels het baie mense

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1