Find your next favorite book

Become a member today and read free for 30 days
Dwaalpoort

Dwaalpoort

Read preview

Dwaalpoort

Length:
414 pages
6 hours
Publisher:
Released:
Oct 5, 2017
ISBN:
9780624051138
Format:
Book

Description

Dwaalpoort is ’n ou KwaZulu-Natalse familieplaas, geslagte reeds bekend om sy veekuddes, osse wat jaar na jaar rekordpryse op vendusies behaal. Maar ook om sy sonderlinge wit hartbeeste, ’n trop wat reeds aan dié wêreld se vroegste inwoners bekend was. Rentia het Dwaalpoort van haar pa geërf, en die plaas word nou deur haar man, Henning, bestuur. Ook op die plaas is die wildvanger en oudsoldaat Bullet. Hy was Rentia se pa se regterhand en voorheen haar minnaar. Dit is ’n ongemaklike saambestaan in ’n krisistyd in die plaas se geskiedenis. Strachan laat elkeen van die betrokkenes by dié sleutelgebeure op Dwaalpoort daarvan vertel, en hul stemme is op sigself dwalende spore wat uiteindelik en noodwendig rigting kry na die laaste donker poort. En dit is asof die stemme harmonieer in ’n soort dodemars – die musiek van ’n era wat verbygaan. Terwyl dit alles voltrek word, staan die silhoeët van Mhlophe afgeëts waar hy op die platorand oor Dwaalpoort neerkyk, soos wat hy eeue reeds doen. Met Dwaalpoort kry Strachan die magiese mengsel reg: op die oppervlak is sy verhaal ’n volkome genietbare en onmiddellik toeganklike verhaal van lus en liefde en geweld en geheimenisse. Dáárby is dit ’n uiters stimulerende besinning oor menslike reaksies op ’n verkrummelende bestel.
Publisher:
Released:
Oct 5, 2017
ISBN:
9780624051138
Format:
Book

About the author

Dr Alexander Strachan is an award-winning novelist from Harrismith in the eastern Free State. After studying languages at the then University of the Free State, he obtained his doctorate in Zulu at the University of Pretoria and became a full professor in African Languages. Strachan received the Eugène Marais Prize for his debut collection of short stories, 'n Wêreld sonder grense (1984). His works include inter alia the novels Die jakkalsjagter (1990), which won first prize in the DeKat/Antenne Great Novel Competition, and Die werfbobbejaan (1994), for which he received the WA Hofmeyr Prize. He was again awarded the WA Hofmeyr Prize for literature for his novel Dwaalpoort (2010). His most recent novel, Brandwaterkom (2015), which deals with the Anglo-Boer War, won the kykNET-Rapport Book Prize. War, and the Border War in particular, is a central theme in his oeuvre. 1 Recce: The Night Belongs to Us (2018) was his first nonfiction work. With that book, he returned once more to the Bush War and focused specifically on the history of 1 Recce and the unit's role during this war. It found a ready market among diverse audiences worldwide and created an expectation for this sequel. The action-packed 1 Recce: Behind Enemy Lines is the second volume in the three-volume 1 Recce series. Strachan himself was a Recce.

Related to Dwaalpoort

Related Books

Book Preview

Dwaalpoort - Alexander Strachan

DWAALPOORT

Alexander Strachan

Tafelberg

vir spik

Ons het nie ons eie stemme nie, het Rentia gesê. Dis Dwaalpoort wat deur ons almal praat.

1. MHLOPHE

Oral om hom was daar beweging. Hy het stemme hoor roep. Elke keer wanneer hy vassteek, het daar opnuut koeëls oor hom gefluit. Hy het weer ’n keer van rigting verander.

Sewe ruiters het sy roete terug na die kloof toe afgesny. Hulle wou hom op die oop veld tussen die lae rante hou – weg van die kloof af.

Stof het om hom gehang. Die koeëlgat was regdeur sy longe, anderkant uit. Onder sy skerp kloue kon hy die sanderigheid voel. Plek-plek was dit klipperiger en die klank van sy kloue op die grond het daar verander.

Die bloed het swaar en dik in sy keel gelê. Tussen sy ribbes wou die koeëlwond nie toetrek nie. Met elke beenhaal het dit groter en groter geword. Daar het bloedborrels en slym op sy vel uitgeslaan. Hy kon dit met die skuinsdraai van sy kop sien, maar die wind het dit weggewaai.

Iewers in die lang dag van hardloop en ontduik het sy asemhaling verander. Hy kon voel hoe dit gebeur. Sy treë het langer gerek. Sy asem het nie opgeraak nie. Hy het geen moegheid gevoel nie. Die sweet op sy flanke het droog geword en hy kon die swaelreuk van die koeëls teen die klippe ruik.

Die brand in sy keel was nie meer so erg nie. Dis hoekom hy kon aanhou hardloop. Hy het lank nie meer deur sy mond asemgehaal nie. Hy het deur die koeëlgat in sy bors begin asemhaal.

Weer het die ruiters hom probeer afsny. Die perde se bekke was oopgerek onder die stange. Met die sprong vorentoe het sy regteragterpoot diep tussen twee skerp klippe ingetrap. Hy het gestruikel, op sy knieë geval, maar regop gekom. Hy het wyd gedraai op die vlakte.

Dit was sý terrein; hy het dit geken.

Weer het die koeëls gefluit. Die ruiters het in die ry op hom geskiet. Maar hy het vasgesteek en omgedraai na die jagters toe. Hy het nie meer geweifel nie. Oor voetpaaie, tussen kaal kolle, klippe en miershope deur het hy hulle trompop genader. Die vrees het in hulle oë gespring.

Toe breek hy deur die linie perde en gewere.

Hy kon die slag van sy kloue oor die vlakte hoor eggo. Hy het die afdraande gevat. Onder in die drif het hy die spruit oorgesteek. Hy het die oorkantste steil wal uitgeklim en gaan staan om die waterdruppels van hom af te skud.

Die grassade het in die wind geroer. Op die vlakte het ’n ruiter tevergeefs in die lug na sy hoed gegryp. Hulle het die perde in ’n stofwolk onder by die spruit ingetrek. Die gewere se lope het grond toe gehang; hulle sou hom nie verder agtervolg nie.

Hy het met die voetpad teen die kloof uitgestap. Bo by die oog het hy gaan staan. Hy het lug deur die koeëlgat ingetrek en die bloed uit sy keel gehoes. Toe het hy die wond aan sy sy droog gelek. Hy het sy kop laat sak en diep slukke van die fonteinwater gedrink.

Snags het die wind oor die vlaktes gewaai. Sy blad was seer en styf; vir lank kon hy nie op sy been trap nie. Maar die tyd het sy eie loop gehad en die wond het gesond geword.

Op maanlignagte het hy tussen die skerp rotspunte op die plato gestaan.

Soggens het die son se strale deur die mis gebreek. Soos altyd het hy afgekyk op die plaas. Deur die yl lug het die werfgeluide na hom aangekom. Hy het almal op die werf by die naam geken. En hy het hulle bewegings dopgehou – ook wanneer hulle elders op reis was.

Niemand kon sy oë ontsnap nie, maak nie saak waar hulle was nie.

Hy hoef maar net af te kyk voor hom in die water. Hy kon die werfmense se afbeeldings deurentyd voor hom in die oog sien. Elke oggend wanneer hy bo van die plato af kom om te drink, kon hy hulle in die rimpeling van die water in die poel sien.

En hy kon ook ánder mense in die poel sien. Die mense wat lank terug hier gewoon het. In die tyd voor daar opstalle gebou is. Eers die jagters met die gifpyle – die brandwonde wat moeilik herstel het. Toe die ander jagters – dié wat met die spiese gekom het, wat die breë lemwonde gegee het . . . En nou die soveelste groep jagters met gewere.

Eintlik het hulle min van mekaar verskil. Sommige het vangputte gegrawe en skerpgemaakte stokke onderin geplant. Party het in die nou deurgange strikke gestel en slagysters in die skerp draaie van ’n uitgetrapte voetpad. Ander het opgedaag om die bomas te kom bou – altyd windaf om die wild met helikopters oor die vlakte na die tregter toe aan te jaag.

Lank terug het die mense skuilings gemaak en teen die wind gekampeer. Hulle het geëet en lande gesaai. Hulle het gewag vir die reën. Soggens het hulle in die son gebak. Hulle het geoes, om die vure gedans, die stronke teruggeploeg en weer gesaai . . . Maar niemand van hulle kon ooit betyds die roet in die lug ruik nie.

Saans het hy met die draai van die wind sy naam om hul vure gehoor. Elkeen het dit op sy eie manier gesê. Party het sy naam gefluister, ander het gemaak of dit nie bestaan nie. Maar dit het selde gebeur dat iemand deur die water in die drif loop om sy naam bo in die kloof te kom roep.

Op die vlakte het die een groep na die ander verdwyn. Nuwe mense het op die horison verskyn. Die ou groep het plek gemaak vir ’n nuwe een. Ander gesigte, ander gewoontes, maar almal jagters.

Hy het hulle sweet geruik, en die skoon reuk van hulle lywe wanneer hulle gewas het. Daar was ’n angstigheid in hulle stemme. Hulle kon dit nie wegsteek nie, dit het in hulle sweet uitgeslaan.

Geweerskote het oor die vlakte geknal en hy kon oral vure sien brand. Die vlamme het teen die geboue en bome opgekruip. Mense het rondgehardloop, party het die rante uitgevlug.

Bo uit die kloof het hy wag gehou. Die knal van die geweerskote het weggesterf. In die skaduwee van die kloof het hy by die oog gestaan. Hy het die tekens geken. Vir ’n ruk lank sou daar weer stilte op die vlaktes wees.

Maar party van hulle sou weer terugkom.

Ná daar baie jare verby is, sou hy hulle op ’n dag weer sien. Hy het hulle manier van loop geken en die klank van hulle stemme. Hy kon hulle van ver af eien. Hulle het gekom om terug te vat. Die vlaktes sou anders lyk. Hy sou weer landerye sien en soggens swepe hoor wat klap.

En soos die mense voor hulle sou almal dieselfde dinge in die wind ruik: weerlig, reën, stof en droogte. Om die kampvure het hulle hul hande warm gemaak. Maar hulle sou nie die roet ruik nie; net soos die jagters met die gewere ook eers die roet geruik het toe dit al lankal brand.

Bo uit die kloof uit het hy afgekyk op die werf. Dae lank nou al het hy die oggendlug gesnuif . . .

2. JURGENS

Die hoofpad was bedrywig voor die naweek en ek moes my kans afwag; dit was moeilik om die groot trokke verby te steek. My hande het dalk onnodig hard om die stuurwiel geklem, want ek kon voel hoe my palms begin sweet; die hoofpyn agter my oë het intenser geraak. Maar toe kom die afdraaipad – ’n uitgetrapte grondpad met dik lae opgehoopte sand weerskante van die wielspore.

Daar het dadelik stof teen die voorruit begin pak en die pad het steeds smaller geword; dit het al hoe meer geslinger. Ek het die groet van die enkele voertuig wat van voor af kom intuïtief met ’n ligte beweging van my wysvinger beantwoord – dit was blykbaar die gebruik hier op die platteland.

Los gruis en klippe het onder die wiele geknars. Ons het teen steiltes afgery, deur driwwe en oor laagwaterbrûe. Daar was tarentale in die pad en ek het vir ’n steenbok uitgeswaai. By die volgende diep drif het die water agter ons opgespat; ons was dadelik weer terug op die droë sandpad. Dit was byna of ek vooraf kon raai die es wat kom, gaan bedrieglik wees. Ek het betyds teruggerat, tog moes ek klou aan die stuurwiel. Ons het om die draai geskuif en vir ’n paar oomblikke kon ek niks sien nie; ek het die voertuig bloot met instink in die pad gehou.

Ek het na Anne langs my gekyk. Sy was effens bleker, maar as sy dalk geskrik het, het sy dit goed weggesteek en woordeloos voor haar uitgekyk. Sedert ek nie vir haar by die toilet wou stop nie, het sy nog nie weer gepraat nie. Toe ek by die ablusie verbyry, het ek gesien sy kyk vinnig in my rigting. Laat sy maar ’n bietjie uithou, het ek gedink; vroue is mos veronderstel om langer as mans te kan knyp. As haar oë ’n waterige kyk kry, sal ek wel aan ’n plan dink.

Al hoe meer stof het die kajuit binnegedring en ek kon die rooierigheid op die paneelbord sien. Die krapperigheid in my keel het my kort-kort laat kug. Maar dit was tog ’n lekker gevoel. My greep op die stuurwiel was nou minder geklem, hoewel die gestamp gevoelig op my lae rug en niere was, en fyn steekpyntjies het deur my geskiet elke keer wanneer ons deur ’n ongelykte gaan.

Ek het my rug reguit teen die sitplek gemaak en die voertuig teruggerat. Daar was nie rede vir haas nie. Anne kan gerus maar nog ’n bietjie knyp; hierdie laaste stukkie rit was deel van die jagervaring en ek kon voel hoe ek die stad begin afskud. By die hek het ons voor die naambord stilgehou.

Dwaalpoort.

Uiteindelik, het ek gedink. Ek het vir Anne gekyk, maar sy het eers gewag dat die stof van agter af by die voertuig verbytrek. Toe het sy die deur oopgemaak en uitgeklim. Die ligte wind het haar romp tussen haar bene ingewaai.

Terwyl sy na die hek loop, het ek na die sitplek gekyk waarop sy gesit het. Het ek regtig so laag gedaal dat ek waarlik na ’n nattigheid soek? Tog kon ek my nie daarvan weerhou om met my hand oor die oortreksel te vee nie. Haar rug was na my gedraai en ek het aan my vingers geruik terwyl ek haar deur die stowwerige voorruit dopgehou het – die gemaklike tred van haar treë in die plaaspad. Soos ’n roofdier, het ek gedink; dis waaraan haar bewegings my nog altyd herinner het.

Sy het die ketting losgemaak en die hek het geluidloos oopgeswaai en met ’n dowwe klapgeluid teen die ingeplante klip tot stilstand gekom. ’n Trilling het deur die lyndrade getrek en ’n swerm vinke het ’n ent weg van die draad af opgevlieg en ’n boog teen die lug gespikkel voordat hulle in die niet verdwyn het. Agter Anne was die vaalheid van die veldgras. Die stingels het almal in die saad gestaan. Dit was die eerste keer dat ek haar só sien. Die profiel van haar bobene was effens sigbaar deur die dun materiaal van haar romp.

Ons het tydens die rit nie veel gepraat nie. Sorgvry sou dit seker nooit tussen ons wees nie; daarvoor was die huwelik te gekompliseerd, ons argumente die afgelope weke te fel. Maar ek sou die lug op ’n manier moes suiwer, en na twee egskeidings was ek darem al in ’n mate bedrewe hiermee.

Dit was vir my belangrik dat die skiet van my laaste trofee suksesvol verloop. In die ry het ek dus na ’n gebreekte damwal gewys, ’n murasie hier en daar en ’n blesbok wat langs die pad naby die draad gewei het. Natuurlik ook na die kosmos – die konfetti; ’n onkruid wat saam met die Britte se perdevoer tydens die Anglo-Boereoorlog gekom het, het ek haar vertel. Ek het ook Henning se naam genoem, wat op universiteit in my klas gesit het en hom nou op ’n wildplaas bevind het – iets wat ek nooit met hom in verband sou kon bring nie.

Voor my in die pad het Anne opgekyk en die wind het weer aan haar romp geraak. Dit het opgewarrel, gesak, weer opgewarrel; sy het nie moeite gedoen om dit plat te stryk nie. Maar was daar ’n ongeduldigheid in haar oë? Sy het steeds roerloos langs die hek gestaan. Sy het seker gewonder hoekom ek so talm.

Toe draai sy haar kop plotseling na die hoë kop aan die regterkant van die pad – die baken wat tydens ons aantog reeds van ver af sigbaar was. Dit was verstommend hoe anders en terselfdertyd bekend dit van naby gelyk het. Waarskynlik was dit deel van die jagbrosjure wat ek oor die pos ontvang het – ’n goeie bemarkingspunt vir die plaas, dit kon enigeen sien. Dit het ’n mens se blik aanhoudend bly trek. ’n Mengsel van vreemdheid en bekendheid. Heel moontlik die dieptes en die skaduwees, of dalk die onmeetbaarheid daarvan wat geen foto op die brosjure sou kon vasvang nie. Dit was byna asof ’n mens nie daarvan kon wegkyk nie. Sulke landmerke hét natuurlik die geneigdheid om ’n gevoel van déjà-vu te ontlok – ons wás almal al op die kruin en in die onklimbare hellings sal daar sekerlik spelonke met geheimenisse wees.

Agter Anne het die dwarrelwinde rooi in die stof gedraai en ek het die koppelaar stadig gelos en tussen die hekpale deurgery. Ek het eers gewag dat sy die hek toemaak en weer inklim. Toe het ek die voertuig afgeskakel, my deur oopgemaak en uitgeklim om te kyk of die uitlaatpyp wit brand.

Dis wat ek vir haar gesê het. Maar wat ek eintlik gedoen het, was om in die stof agter die voertuig te urineer.

Wanneer jy op ’n jagplaas aankom, is dit nog altyd die gebruik. Die rede hiervoor kon ek nooit heeltemal kleinkry nie, maar dit het niks met terreinafbakening te make nie. Dit was minder dramaties – ’n swak blaas, die lang knyp vooraf, of net ’n gewoonte wat vasgesteek het.

Ek het my gulp oopgeknoop en gewag. Vir ’n lang ruk het daar niks gebeur nie. Sou dit dan tog die geskud van die voertuig gewees het? Die lang stilsit? Ek het gesukkel om die urine uit te kry. Met my linkerduim het ek my onderbroek se rek verder afgedruk om die drukking aan die onderkant van my penis te verlig. Terselfdertyd het ek omgedraai en na die agterkant van die plaas se naambord gekyk. Daar was ’n paar koeëlgate deur – die uitbundigheid van jagters uit die stede, skielik losgelate omdat hulle bevry is van baadjie en das.

Die gate het skerp en punterig uitgeblom. Ek kon die voorkant van die naambord steeds in my gedagte sien. Net die voorletters en die van en ondertoe die plaasnaam. Die bord is nie op die dorp laat verf nie, dis hier op die plaas gemaak; nie met krulle en draaie nie, maar ongetwyfeld ’n vrou se aanslag. ’n Bord wat gelyk het of dit nie maklik vervang sal word nie. Asof die woorde nie noodwendig sal verander met die kom en die gaan van die generasies nie, want dieselfde mense bly tog nog in beheer.

Ek het die gevoel gekry dat Anne my dophou. Die truspieëltjie? Maar toe ek oor my skouer loer, sien ek sy kyk by die syvenster uit. Haar hare het los oor haar skouers gehang en ek het weggekyk van haar na die naambord voor my. Dominium, het ek gedink. Eiendomsreg.

Ek het my heupe vorentoe gedruk en my blaas geforseer. Dit was ’n verligting toe ek voel hoe die urine begin uitkom. Eers ’n effense branderigheid. Toe die straaltjie, dun en onbeduidend. Ek het stadig uitgeasem. Toe ek dit afknyp, het ek weer die branderigheid gevoel. Daar was spatsels op my skoene en my vingers het onhandig gevoel terwyl ek my gulp toeknoop en my skoenpunt ongemerk teen die agterkant van my broekspyp probeer afvee.

Met die einde van die rit in sig was die voertuig se dreuning sag en egalig in my ore. Die gedagte aan Anne wat langs die pad in die gras sou kon hurk, was ’n bekoorlike prentjie. Gebukkend so tussen die droë grasstoppels terwyl sy haar oorvol blaas meteens in ’n warm plas tussen haar voete loslaat. Was daar ’n tinteling in my vingerpunte?

Ek het op die sitplek rondgeskuif; die branderigheid was nog nie heeltemal weg nie en ek het my bobene probeer beweeg sonder dat sy dit opmerk. Terwyl ek oorsit na derde rat, kon ek die lastige klammigheid voel van die laaste paar druppels wat nou eers met die sit uitgekom het. My hand het liggies teen Anne se knie gestamp en sy het haar been weggetrek. Die enigste geluid in die kajuit was die toonlose deuntjie wat ek saggies deur my tande gefluit het. Hoekom het ek dit gedoen, wetende dat dit haar sou irriteer?

Ons het die plaas binnegery presies soos ons die hele rit saam meegemaak het – sonder om te gesels. Anne het wel om haar rondgekyk; dit kon ek sien. Met die laaste draai het die plaasgeboue voor ons opgedoem en ek het voor my in die pad op die bloekombos gekonsentreer wat geleidelik met elke knik in groter detail sigbaar geword het, totdat ek die stukke los bas kon sien wat aan die kaal stamme hang.

Die opstal was soos ek my voorgestel het: voorstoep en agterstoep, buitedeure, sinkdak, systoepe, skoorstene, kleinerige vensters, goed versorgde tuin, baie buitegeboue. Alles amper in oordaad. Ek het die werf stadig binnegery, óm die eerste skuur tot in die skaduwee van ’n sering. Dit was die logiese plek om te parkeer – in die koelte. Iemand sou wel aangesê word om die tasse na die huis te dra. Iewers het ek honde hoor blaf.

Ons het nie dadelik uitgeklim nie. Ek het na Anne gekyk. Funksioneer vroue dan soveel anders as mans? Nie een keer het ek opgemerk dat sy ongemaklik op die sitplek rondskuif nie. Het die lang inhou haar drang om te urineer nou heeltemal weggevat? Sy het wel ’n keer haar knieë teen mekaar gedruk. Ek kon nie haar gesigsuitdrukking sien nie; sy het weggekyk, maar haar vuiste se kneukels het wit deurgeslaan. Ek het my oë ’n oomblik toegemaak, dit was ’n verligting om die eindbestemming te bereik. Nou wou ek eers iets van die aankoms inneem. Toe ek my voet van die koppelaar afhaal, het die voertuig doodgeruk. Na die baie ure se ry, was die einde van die tog amper te skielik.

Ons het ons deure saam oopgemaak en Anne het na my gekyk asof sy wag. Maar ek het nog ’n rukkie gesit. Toe het ons op die vreemde werf afgeklim en in die skerp son ingekyk.

Bo by die stalle het ek ’n vrou met ’n perd sien staan.

Ek het ’n vreemde gevoel gekry terwyl ons oor die werf stap. Iets wat saam met die reuk van die bloekoms gekom het. Ek hét wel op die platteland grootgeword, maar was vir die grootste gedeelte van my lewe ’n stedeling – dís die kultuur wat ek myne gemaak het. In die stap het ek opgekyk in die bloekombos in; ek het ook die hoenderhokke raakgesien en voor die rondawel was die grond gevee. Ek kon ’n beeskraal sien, ook die gepakte klipmuur van ’n familiekerkhof. Agtertoe was die skeefgetrekte stellasie van ’n windpomp en langsaan ’n vervalle sementreservoir met kikoejoe wat in die barste groei.

In die bloekoms het die blare geritsel, maar die windpomp se stert het roerloos teen die lug gestaan. Ek het afgekyk. Onder by die stamme het stukke geroeste yster gelê – ou implemente wat hierheen getrek is om hul laaste staan te kry: ploeë, êe, hooiharke en skoffels. En die planter met sy gemaklike gaatjiestoel waarin ek later die naweek sou gaan sit om my sigaar te rook, toe die klonkies op pad kraal toe die hasepad sou vat toe hulle my sien . . .

Ek het oor die grasvlaktes en koppies gekyk terwyl ek na die vrou toe stap wat die perd aan die toom vashou. Terwyl ek loop, het ek ’n kras geluid gehoor. Ek kon nie onmiddellik sê waarvandaan dit kom nie. ’n Industriële geluid, dis al hoe ek dit kan beskryf. ’n Geluid van iets wat sukkel om aan die gang te kom. Ek het gaan staan en geluister – definitief die geluid van iets wat in beweging probeer kom: yster wat teen yster skuur.

Die windjie was effens sterker, maar die windpomp se stert het nie geroer nie. ’n Paar van die windpomp se lemme was geknak en het afwaarts gehang. Onder op die grond, half toegegroei onder die kweekgras, kon ek die punt van nog ’n lem sien uitsteek. Ek het opgekyk in die skerp lig. Dit was tog of die stert effens beweeg, het ek gedink. So min dat ’n mens dit skaars kon waarneem.

Toe weer die skel geluid van yster op yster . . . iewers in die masjien was onderdele besig om onder die drukking van die een of ander krag mee te gee. Daar was ’n harde klapgeluid! ’n Rat in die vasgeroeste toestel het losgebreek en die stert het weer geroer. Sigbaarder hierdie keer. Maar die opgewende rem het uitgehou. ’n Uitgerekte klageluid teen die lug. ’n Meganisme wat te lank sonder olie gestaan het. Die windpomp se oorblywende lemme het vibreer en ek het my verbeel ek sien die stang op en af beweeg.

Was ek duiselig van al die opkyk? Meteens het ’n stroom helder water uit die geroeste afleipyp in die gebarste sementdam begin loop. Het die wind dan tog sterk genoeg gewaai? By die bodem het dit begin lek. In die hitte kon ek nie die koeligheid van ’n trek teen my natgeswete blaaie voel nie, maar die windpomp het steeds bly pomp. Die stang het op en af beweeg; die yl geluid al vinniger, al skerper – soos ’n sonbesie wat op die hitte van die dag op sy eie in ’n boom betrap word.

’n Paar geelbekeende het lawaaierig bokant die bloekombos rondgedraai. Het hulle die water geruik? ’n Oomblik het hulle gemik, dit het gelyk of hulle gaan afduik na die sementdam.

Ek het in die blou lug bly inkyk totdat dit onhoudbaar skerp vir my oë geword het en die eende in spikkels vervaag het asof hulle nooit daar was nie. Maar dis al hoe ek dit kan beskryf – hoekom het dit daar op die vreemde werf meteens soos ’n tuiskoms gevoel?

3. RENTIA

Die dag dat die besoekers sou opdaag, het ek nog vroeër as gewoonlik opgestaan. Ek het die aand sleg geslaap, nie oor die gaste nie, maar omdat Henning nie langs my tot rus wou kom nie; net toe ek begin dink het hy het nou vrede gemaak met die plaas se titelaktes. Maar hy het die afgelope paar aande aspris in die bed rondgerol om my hieraan te herinner, byna asof die koms van die gaste die idee opnuut in hom wakker gemaak het.

In die kombuis het ek twee Disprins gedrink.

Buite was dit nog nie heeltemal lig nie en die oggendlug was koud teen my gesig toe ek met my hande diep in my baadjiesakke gedruk na die stalle loop. Agter die rondawel het die haan wat die afgelope ruk begin skop het, my voorgesit. Ek kon nie waag om my rug op hom te draai nie; ek moes ’n lang ent agteruit loop met my hande nog in my sakke terwyl ek met die agterkant van my skoene ’n pad tussen die nat graspolle deurvoel, tot ek buite sy bereik was.

Toe ek die staldeur oopstoot, was dit of die perde my stemming kon aanvoel. Ek het met my rug na die werf gestaan, want ek was nie lus vir Henning se gesprekke nie. Selfs al kon ek hom nie van hier af sien nie, het sy stem steeds in my gedagtes gemaal. Terwyl die werkers die perde uitlei, het ek my tog betrap dat ek ’n paar keer oor my skouer na die huis gekyk het. Ek het hulle gevra om Nag vir my op te saal, want ek wou ’n lewendige perd ry. Dit was omtrent ’n gesukkel om die stang tussen die hings se toegesperde tande deur te forseer, want hy het sy kop bly wegruk, asof daar ’n gevoeligheid by sy ore was.

Msun’ kanyoko! het hulle gevloek toe hy na hulle skop.

Toe was die stang in sy bek, maar hulle moes hom voor aan die toom vashou sodat ek kon opklim. Met die teuels styf teen sy nek het ek hom tussen die werf se hekpale deurgestuur. Toe kon ek hom nie meer inhou nie. Hy het die stang vorentoe gewerk in sy mond, dit tussen sy tande vasgebyt en sy nek reguit gemaak asof hy die rit wou oorkry. Sy galop was onegalig en rukkerig, asof hy my aan my eie ongemak wou herinner, aangehelp deur die gedagte dat die vreemde mense in die huis self gaan slaap, met net die gang tussen ons vir privaatheid.

Onder in die drif het die perd se hoefslag verander en die water het ’n boog oor ons gespat. Eers teen die steilte het sy hale begin korter word en ek het gemakliker in die saal gevoel. Sy asem het nou in kort stote uit sy keel gejaag en ek kon salpeter en klam lusern in die lug ruik.

Ons het al dieper in die kloof ingegaan, stadiger nou. Onder die bome het die blare ’n digte mat gemaak sodat die perd se hoewe skaars hoorbaar was. Net die sagte gedrup uit die rotswande; en die reuk van nat mos en varings terwyl die skerpheid van die son geleidelik weggeraak het.

Maar die hings het sy krag steeds in hom opgekrop gehou, ek kon dit teen my bobene voel. Twee keer het hy my byna uit die saal gegooi. Die eerste keer toe die takke langsaan kraak; die tweede keer het hy sonder ’n waarskuwing omgespring – hy het nie gehou van die skaduwees nie.

Toe ek by die oog afklim, het my bene wankelrig gevoel van die geklem om sy lyf. Ek het afgebuk en water met my hand geskep. Was dit die wind? ’n Sagte rimpeling het oor die poel beweeg en ’n oomblik was die water troebel, soos ’n oog wat knip. Die son het spatsels deur die blare gemaak en meteens het ek verstyf. Voor my in die sand het die spoor gelê, duideliker as ooit tevore – die kaalvoetspoor het soos ’n afdruk tussen die bokspore gelê.

My hand het uitgegaan om daaraan te raak, toe ek die snorkgeluid hoor. Ek het omgekyk. Die perd se neusgate was wyd oopgesper terwyl hy terugbeur in die doringbosse in, asof hy wou wegkom van iets. Al twee my hande was nou om die teuels geklem, maar ek kon hom nie nader trek nie. Eers het ek net die wit van die hings se oë gesien. Toe sien ek die beweging tussen die bome: ’n wit hartbees in die skaduwee! Fyn strale son het deur die takke op sy vel geval. Oomblikke lank kon ek glad nie beweeg nie, ek het net na hom bly kyk, terwyl hy stadig, geruisloos in die voetpad afgeloop gekom het. Sy snaakse, lang kop, het ek gedink – amper mensagtig, so van naby af.

Maar dit was hý.

Aan sy hink kon ek Mhlophe herken.

Die bok het aan die water geruik sonder om te drink; ek het stadig afgesak op my hurke; die punte van sy horings was gesplinter . . . sy nek, sy borskas en sy hoewe. By sy knieë was die vel afgeskilfer en vol snye. Daar was skraapmerke oor sy neus en ’n paar diep kraphale oor sy ribbes. Hy het sy kop gelig en om die poel geloop. Tussen sy agterbene het die dun vel styf om sy teelballe gespan.

Was hy steeds die leier van die trop?

Langs my het die perd staan en bewe, met rimpels wat op en af oor sy hele lyf hardloop; sweet het op sy flanke uitgeslaan.

Mhlophe het vorentoe getree, óór die kaalvoetspoor in die voetpad sonder om daaraan te raak. Hy het by ons verbygeloop asof ons nie daar was nie en voor my oë tussen die bome weggeraak.

Nag het steeds bly terugrem; hy wou nie dat ek opklim nie en het sy lyf so gedraai dat ek nie my voet in die stiebeuel kon kry nie. Ek moes hom aan die teuels onder die bome uitlei: al met die voetpad langs, verby die Boesmantekeninge, die klam reuk in die holte van die bergwand waar die geraamte uit die outyd oopgespoel het, tot ons weer in die oopte was.

Toe eers het hy my laat opklim.

Die rit terug huis toe was vinnig. Was die perd verneder deur die bok? Ek kon nie help om te wonder nie, maar vir die tweede keer die dag moes ek vir lewe en dood klou. Hy het self die kortste pad gekies. Graspolle, bome en struike het verbygeflits en ek het myself dun gemaak op die saal.

Die hekpaal het my knie rakelings gemis. Voor die stalle het ek hom hard ingetrek en daar was ’n gerammel in sy borskas.

Ek het afgeklim en by die stal ingeloop. Ná die skerp lig buite, was dit binne stikdonker. My bene was lam en bewerig terwyl ek my pad voor my voel tot ek op ’n baal kon neersak. Die ontmoeting met die bok was te onverwags, te skielik. Dit het my gedagtes teruggevat na waar ek nie wou wees nie . . .

Saans was daar skaduwees teen die ruite. In die kombuis voor die koolstoof het ek in die vloek van Mhlophe geglo. Mhlophe. Dit was die naam wat ons om die kerslig gefluister het wanneer die bokke bo in die kloof vir ons anders as bedags gelyk het. Soggens het ek opgekyk in die mistigheid wat oor die kop hang. Ek kon my as kind allerhande dinge daarin verbeel, mense en goeters wat saamgevleg het met die stories wat ek om die koolstoof gehoor het. Maar altyd op ’n afstand, geskei deur Dwaalspruit se verraderlike kuile. Tot daar jare later een oggend ’n boklam op die werf opgedaag het, regdeur die doringdraadheining tot voor die agterstoep. Hoe het hy al die pad op sy eie bo uit die kloof gekom? Daar was ’n brandstreep oor sy rug en hy het na weerlig geruik, of dan ten minste na iets swaelerigs.

Mbulale ngesagila! het die werkers van die veekraal af geroep. Slaan hom met ’n knopkierie dood! Maar hy was te klein, sy spoortjies het skaars ’n merkie op die werf gemaak. Ek kon hom mos nie

You've reached the end of this preview. Sign up to read more!
Page 1 of 1

Reviews

What people think about Dwaalpoort

0
0 ratings / 0 Reviews
What did you think?
Rating: 0 out of 5 stars

Reader reviews