Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Dors
Dors
Dors
Ebook383 pages7 hours

Dors

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

In die loop van 1876 kom verskeie groepe Transvalers by die samevloei van die Krokodil- en Maricoriviere aan met die idee om na Damaraland te trek. ’n Land wat hulle net uit die stories van jagters ken. Om daar te kom, moet hulle ’n stuk waterlose Kalahari, bekend as die Dors, oorsteek. Maar die magstryd tussen die voormanne van elke groep om die hoofleier van die trek te wees laat die trek op ’n ramp afstuur, lank voor hulle die Dorsland binnegaan. Anderkant die dors wag daar nie ’n land van melk en heuning nie, maar koors, tsetsevlieë, olifante en leeus. ’n Land vir mense wat uit hardekool se hout gesny is. ’n Land vir mense wat die dood kan vat en kan doodmaak sonder om ’n oog te knip.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMay 1, 2018
ISBN9780624084372
Dors
Author

Marinda van Zyl

Marinda van Zyl is op 11 September 1948 te Gobabis (Namibië) gebore. In 2011 was sy die naaswenner in Lapa se romanwedstryd met haar manuskrip Vrypas na Vergenoeg wat as Wilhelmina Radebe kom tuis gepubliseer is. Haar roman Amraal haal in 2015 die kortlys van NB-uitgewers se Groot Afrikaanse romanwedstryd.

Read more from Marinda Van Zyl

Related to Dors

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Dors

Rating: 3 out of 5 stars
3/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Dors - Marinda van Zyl

    Dors

    Marinda van Zyl

    Tafelberg

    Vir Tian van Taak

    Dorskaart 1876-1880

    Hoofkarakters se gesinne in 1876

    1

    Junie 1876, Greyling-staning naby sameloop van die Marico- en Krokodilrivier

    Kraa, kraa, lawaai die swartkraai in die haakbos digby die waens.

    Dit voel vir Betta Greyling asof die swart kraalogies haar oral volg. Ontstig soek sy ’n klip om die voël te verwilder, maar daar is net sand en blare van die doringbosse wat reeds uitgekap is. Die seuns het gister net genoeg bosse onder die withaakboom uitgekap vir takkrale en só ’n oopte geskep vir die vier waens. Om haar lê ongerepte Bosveld. Iewers wes is die Maricorivier, het Jan gesê.

    Voertsek, voertsek, probeer sy die kraai met swaaiende arms verwilder, maar hy sit sy sit asof hy die bos gekoop het.

    Nou lyk jý soos ’n reusekraai wat probeer vlieg, terg Jan. Los die voël, hy kom aas seker vir ’n stukkie biltong.

    Jy vergeet al weer ons ma’s het gesê ’n swartkraai bring onheil. Die ding moet weg hier.

    Ai, my vrou, jy weet tog dit was bogstories van twee susters wat enigiets sou sê om ons twee uitmekaar te hou. Nie een van hulle voorspooksels het ooit waar geword nie.

    Almiskie, die voël pla my. Maak tog ’n plan.

    Ek gaan gou ’n draai maak by die anders stanings, het Jan soos gewoonlik ’n verskoning gereed.

    Betta glimlag verlig toe hy die kraai met sy hoed verwilder voor hy tussen die bosse verdwyn. Sy vee die sweet van haar voorkop. Bedags is dit nog somer al is dit reeds Juniemaand. Sy skreef haar oë teen die rooi stof wat dwarrel terwyl Bêrend die grond gelykmaak by die kookskerm.

    Waar loop Elisabet en Janetta rond? wonder sy hardop.

    Ousus-hulle is bossies toe, antwoord Bêrend.

    Betta ril. Dis nog iets waaraan sy nie gedink het toe sy besluit het om saam met Jan op hierdie tog te kom nie. Sy sal daaraan en aan die sand en stof gewoond moet raak, want dit gaan nog dae en baie vate water neem voor die grond vasgetrap is. Kla daaroor kan sy nie, maar in haar hart verkwalik sy tog vir Jan oor sy nou hier in die wildernis is. Toe hy verlede jaar op Louw du Plessis se aandrang saam met die Alberts-trek was om die beste pad Damaraland toe te vind, het hy haar die pad hel toe en terug laat loop. Daardie vrees toe hy nie, soos met elke ander jagtog, teen September terug was nie en toe November aanbreek, die doodsangs dat sy die pad vorentoe alleen sou moes loop, wil sy nooit weer ervaar nie.

    In Februarie, terwyl sy een aand knus met hom lepelgelê het, het hy terloops gesê: Ek moet volgende maand weer vort om vir Louw du Plessis-hulle deur die Dors tot by Ngami te vat.

    Sy wou vir hom sê: Ek het jou kinders alleen in die wêreld gebring en grootgemaak terwyl jy in die jagveld was; die familie se spot dat jy net huis toe kom om kinders te maak met ’n glimlag verduur, maar ek gaan waaragtig nie weer ’n kind alleen begrawe nie.

    Maar sy kon nie die woorde uitkry nie. Net die huil oor jare se eensaamheid en die slap liggaam van ’n seuntjie wat sy nie lewend kon bid nie. Toe Jan beloof om grond in Damaraland, op die jagveld se voorstoep, te kry het sy oorhaastig ingestem.

    Sy hoor Jan se hartlike lag by een van die ander gesinne wat saam met hulle uit Pretoria vertrek het. Hy het aan elke gesin ’n boom toegesê sodat hulle nie onder mekaar se voete is nie. Hier in die veld is hy ’n ander mens. Die rusteloosheid wat hom sy pypsteel laat stukkend kou het toe die voorbereidings vir die trek te lank na sy sin geduur het, is weg.

    Elisabet en Janetta klets vrolik toe hulle uit die bosse kom. Dit was tog ’n goeie besluit om saam te trek, glimlag Betta, want nou het sy vir Piet ook weer onder haar vlerk. Toe hy uit Rustenburg laat weet het hy gaan ook trek, want die boerdery saam met sy skoonpa werk nie uit nie, het sy haar voorgeneem om haar skoondogter met ope arms te ontvang. Dis nie dat sy iets teen Janetta gehad het nie, maar sy moes tog haar seun waarsku teen die sotheid om met ’n kind vyf jaar jonger as hy te trou. Wat weet ’n dogter van vyftien van huishou en die behoeftes van ’n man? Toe wip hy hom en gaan trek by die skoonouers in.

    Tiaan Roets kom met die perdewa vol watervate aangejaag en skop nog stof op. Skuus Tante moes so lank wag. Dis ’n hele ent Maricorivier toe. Hy en Motshoare laai twee vate af voor hy weer die perde leisels gee om die ander vate by hulle eienaars te besorg.

    Jy sal nog water moet bring! roep Betta agter hom aan. Die grond by die kookplek moet nat kom.

    Met die leisels in een hand lig Tiaan sy hoed sodat sy rooiblonde hare in die son vlam. ’n Week gelede het sy die jongman nie geken nie, nou voel hy al soos ’n eie kind. Die mengsel van vrees en wanhoop in sy ma se oë bly haar by, asook die haas waarmee sy Tiaan se klere gaan pak het toe Jan instem om hom as kneg in diens te neem. Wat moet in ’n ma se gemoed omgaan as sy nie haar kind teen sy stiefpa kan beskerm nie?

    Soos al die ander gesinne langs die pad het Tiaan se mense by die suiping nuuskierig kom verneem waarheen die trek op pad was. Die uitdrukking op Jan se gesig toe Tiaan sê hy wil saam Damaraland toe agter ’n voël aan, laat Betta nou weer glimlag.

    Wat! Wat vir ’n voël jaag ’n man die wildernis in? het hy gevra en oopmond vir die antwoord gewag.

    ’n Troupant met ronde stertvere, Oom. ’n Oom wat uit Damaraland gekom het, het vir ons die prent gewys. Ek het hom al probeer teken, maar kan nie al die kleure onthou nie.

    Toe dreig die stiefpa om hom daar en dan ’n loesing te gee.

    Dit was die magteloosheid in die ma se oë wat Betta laat praat het. Jan, jy’t gister gesê jy kort nog hande by die vee.

    Jan het geknik, die pa geïgnoreer en die ma se toestemming gevra om haar seun saam te vat as kneg. Eers later, toe sy vir Elisabet met Tiaan hoor skerts, wou sy haarself skop oor sy vergeet het van haar groen koring op die land.

    ’n Ruiter uit die noorde trek Betta se aandag. Sy herken Louw du Plessis dadelik al het sy hom bykans twee jaar laas met nagmaal in Pretoria gesien. Dit lyk asof die perd enige oomblik onder sy groot lyf gaan swik. Uit gewoonte is sy breërandhoed afgetrek tot teen sy ruie wenkbroue. Maar goeie maniere vereis dat hy dit moet lig toe hy groet en Betta kyk vinnig weg om nie te gril vir die letsels oor sy pankop nie. Sy kan haar indink hoe sy ma gehuil het terwyl sy die kopvel moes vaswerk nadat ’n leeu hom kleintyd beetgekry het.

    Bêrend, kom groet die oom voor jy jou pa gaan roep, roep Betta.

    Louw lyk ontevrede terwyl hy die kampplek bekyk. Julle doen erg moeite met ’n oornagplek.

    Jy’s vroeg op my spoor, red Jan vir Betta van ’n antwoord. Die plan was om teen môre by jou uit te kom. Die plek moet eers leefbaar kom vir die vroumense.

    Maar jy weet tog ons laer is langs die Krokodil. ’n Volle uur te perd hiervandaan.

    Betta beloer die twee mans onderlangs terwyl sy koffie skink. Alhoewel Jan ’n paar jaar ouer as Louw is, lyk hy met sy seningtaai lyf heelwat jonger. Iets aan Louw se houding pla haar. Sy onthou hom as ’n vrolike platjie wie se blou oë kon skitter van die pret as hy iemand ’n streep getrek het. Nou vroetel hy senuweeagtig met sy stompievingers in sy blonde baard terwyl hy wag op Jan se antwoord.

    Met die spul vee wat julle het, is dit seker nou kaalgevreet teen die Krokodil en my diere moet vet wees vir die trekpad. Is julle reg om in die pad te val?

    Ja, opperhoof Khama het al in Desember vir my toestemming gegee om deur sy land te trek en in Maart laat weet Haakdoringpan is vol, maar toe was al die mense mos nog nie hier nie.

    Ek’s jammer, maak Jan verskoning, ek wou einde Maart hier gewees het, maar iets het voorgeval.

    Betta ignoreer die kyk wat Jan haar gee. Mans begryp nie dat jy nie jou hele lewe in ’n paar dae kan oppak en boonop voorsiening moet maak vir honger mae vir wie weet hoe lank nie. Ten minste weet sy hoe om Louw van die oponthoud te laat vergeet. Ek het vir julle ’n baksel beskuit, ingelegde vrugte en ’n paar pampoene saamgebring. Jan sal dit môre bring.

    Louw se gesig verhelder. Ag, dankie, nig Betta. Truia bak lekker brood in ’n miershoop, maar daardie oond deug nie vir uitdroog nie. Dalk kan Jan die goedjies sommer nou met die perdewaentjie bring, want ons moet vir Daniël Erasmus gaan spreek.

    Waaroor nogal? frons Jan.

    Daniël voel ons kan die trek nie sonder regulasies aanpak nie. En daar moet ampsdraers gekies word.

    Maar jy’s mos die kommandant, Louw. My akkoord is met jóú om julle die pad deur die Dors te wys. Verder moet elke man sy eie mense in toom hou en bestraf.

    Daniël sê sy mense het hom nog voor hulle by die Pienaarsrivier weg is as kommandant verkies en hy het die meeste mense met hom saamgebring. Daarom behoort hy die trekleier te wees.

    Wie dink die man is hy dat hy hom so aanmatig?

    Hy’s Van Straat Erasmus se neef. Nou ja, jy sal seker nie weet nie, want jy is mos meer in die jagveld as by die huis. Van Straat was ons waarnemende president voor Burgers verkies is. Daniël self het glo naby Paul Kruger geboer en ken hom persoonlik.

    En dit gee hom die reg om ons te hiet en gebied?

    Dit klink vir my of hy meer skoolgeleerdheid as ek en jy het, Jan. Ons het al klaar so ’n bietjie gesels oor die regulasies waaronder ons sal trek. Nou moet die kommissie gekies word om dit op skrif te stel, sê Louw baie vernaam.

    Betta weet ná sewe en twintig jaar saam met Jan dat hy hom gaan vererg. Wat van nog ’n dronkie koffie met beskuit? bied sy aan om sy aandag af te trek.

    Maar dit stuit Jan nie. Loop sê jy vir Erasmus al die kennis wat ons nodig het om deur die Dors te kom is in hierdie kop van my. Ek weet waar elke put en pan is en wanneer jy waar kan loop infoeter. Ek was al op hoeveel jagtogte die Dors in. Die eerste in ’52 tot by Ngami. In ’65 was ek en die groot olifantjagter Hendrik van Zyl tot by die Okavango. As Erasmus dink hy kan met boekkennis die Dors tem, God behoede almal wat saam met hom trek.

    Nou kom sê dit self vir hom, paai Louw.

    Betta glimlag. Dis nou een ding van Louw. Hy het die statuur van ’n reus. Met sy ruie baard en fors bou lyk hy nou wel na ’n leeumannetjie, maar ’n bakleier is hy gewis nie.

    Louw se kalmte laat Jan afkoel. Vandag moet ek eers die kinders se velskoene versool. Dis ’n lang pad wat ’n touleier te voet moet aflê. Ons kan môre praat.

    Louw glimlag verlig. Tot môre dan. So tienuur by Erasmus se laer.

    2

    Junie 1876, Greyling-staning

    Die vuurvonke spat soos verskietende sterre toe Tiaan ’n stomp op die vuur gooi. Gelukkig beland geen kooltjies op Motshoare wat teenaan die vuur slaap nie. Tiaan wikkel hom weer in sy velkombers toe om sy wagbeurt by die perdekraal om te sit.

    Gesoute perde is meer werd as goud in die wêreld waarheen ons trek, het oom Jan hom die eerste dag ingelig. Dis jou werk om hulle te versorg en snags saam met Motshoare op te pas. Ek voer jou vir die leeus as hulle leeukos word.

    Hy sit verskrik regop toe hy wel ver weg leeus hoor brul. Die brul van mannetjies wat die prooi in die rigting van die wyfies laat vlug, het hy al gehoor toe hy jare terug saam met sy pa op sy eerste jagtog was.

    Snags wanneer hy sy warm bed mis, skel hy homself oor sy impulsiwiteit wat hom op hierdie trek gebring het. Maar daardie dag toe hy hoor van Damaraland, was hy skielik weer tien jaar oud en sy pa beloof: Volgende jaar gaan ons twee Damaraland toe om hierdie voël te soek. Die reisiger wou nie die prent van ’n troupant met rondepuntstertvere aan sy pa verkoop nie. Om saam met oom Jan-hulle Damaraland toe te gaan was die kans om sy pa se droom uit te leef, want ’n jaar ná die reisiger se besoek is sy pa dood. Hy het sy bes gedoen om sy pa se doodswens, om mooi na sy ma te kyk, uit te voer. Maar ’n ma het meer nodig as ’n lastige seunskind wat aan haar voorskootpante klou. Dit het hy op die harde manier geleer toe hy ’n stiefpa kry. Die plaas moet ’n man hê om kos op die tafel te sit.

    Toe Motshoare onder sy velkombers uitpeul, skrop Tiaan vir hom ’n holte in die sand en rol hom in sy velkombers toe. Dit voel of hy skaars geslaap het toe oom Jan se stem hom uit sy droom ruk.

    Opskud, kêrel, die watervate moet vol kom voor ons by Erasmus rapporteer, jaag oom Jan hom aan.

    Tiaan gryp skoon klere uit die bondel wat hy as kopkussing gebruik. Hy wonder wat hy gesondig het dat oom Jan van gister af in so ’n slegte bui is. Elke taak wat hy kry, doen hy so vinnig en goed as moontlik uit vrees dat oom Jan hom sal terugstuur. Miskien het hy gister te lank met Elisabet gesels, maar dis nie sy skuld nie, dis sy wat hom kort-kort kom pla. Hy het al gesien hoe tant Betta vir hulle gluur.

    Terwyl Motshoare die vate volmaak, stroop Tiaan sy klere af en plons die yskoue water in.

    Toe hy opkom om asem te skep wys Motshoare vir hom vinger. Die oubaas hy gaat jou gat warm looi.

    Tiaan kom haastig uit die water en droog hom bibberend met sy vuil hemp af voor hy skoon aantrek. Mag mens dan nie eens was nie? wil hy klappertand weet.

    Die drinkwater jy mors hom vuil. Jy moet stroomaf.

    Jy sal nie vir hom sê nie, nè?

    Motshoare hy verkla nie Boerkeeners nie.

    Hoekom is oom Jan kwaad vir my? wonder Tiaan hardop.

    Die oubaas hy is maar so. As ons jag, die oubaas hy’s mak hond. Twee dae by die huis hy word leeu wat baklei soek.

    Oom Jan wag al netjies uitgevat toe hulle met die watervate by die staning kom. Hy gryp die leisels by Tiaan. Laai vinnig af. Dis klaar skuins voor nege. Toe Tiaan vir Motshoare wil help om die vate weg te rol skel hy: Klim! Wie dink jy moet tant Truia se goed oppas terwyl ek trekreëls moet uitpluis? En jy beter fyn dophou, want ek vertrou die spul glad nie. Toe ek November hier verby is, het ’n olifanttand van my wa af verdwyn.

    Tiaan lig sy hoed vir tant Betta toe sy vir hulle totsiens waai.

    Oom Jan frons. En die koeilekkuif wat jy vanmôre het?

    Motshoare het gesê ek mag stroomaf swem. Ek het my kam vergeet, toe vee ek dit sommer met die hand plat, plooi Tiaan die waarheid.

    Eerder jy as ek in die yskoue water. Maar het jy darem al ’n vreemde voël hier gesien?

    Net ’n blou visvanger, Oom. Ek dink dis dieselfde blou as die langsterttroupant wat ek soek, wei Tiaan uit om oom Jan van die swemmery te laat vergeet.

    Vir daardie troupant sal jy lank moet wag, soos vir alles in die lewe wat die moeite werd is.

    Die laer is by die drif tussen die samevloeiing van die Marico- en Krokodilrivier.

    Oom Jan fluit verbaas. Die man weet mos niks van die veld nie. Dis ’n muskietnes hier in die somer en in ’n goeie reënjaar oorstroom albei riviere hulle walle en word die kom een groot modderpoel.

    Oom Jan vra by die eerste wa na Daniël Erasmus.

    Die rooi wa, beduie die vrou. Dis hy wat daar voor die tent doenig is.

    ’n Oom geklee in ’n swart knielengtebaadjie en broek is besig om sy swart skoen te poets terwyl sy voet op ’n veldstoeltjie rus. Hy lyk soos ’n dominee. Sy baard is in die middel verdeel en in netjiese punte gedraai. Hy hoor hulle skynbaar nie aankom nie, want hy skop die stoeltjie onderstebo toe oom Jan groet.

    Goeiemôre, neef Erasmus. Jan Greyling. Bly te kenne.

    So jy’s Kreling die velskoenmaker, sê die oom toe hy sy ewewig herwin en die twee punte van sy gesplete baard nog ’n draai gee.

    Greyling voer ek die van, neef Erasmus, help oom Jan hom reg en vra: Waar’s die byeenkoms om oor die trekregulasies te besluit?

    Oom Daniël haal tydsaam sy goue horlosie uit sy onderbaadjie se sak. Die goue ketting wat deur een van die knoopsgate kom, skitter in die son terwyl hy dit aandagtig bestudeer voor hy antwoord: Ek weet nie, Kreling. Ek het geen kennisgewing daaromtrent ontvang nie en ek het ook geen byeenkoms belê nie.

    Tiaan skrik toe oom Jan die sakhorlosie gryp en in die proses vir oom Daniël met die vasgemaakte ketting naderpluk.

    Kyk, Erasmus, ek is nie jou speelmaat nie. Hoekom kyk jy op jou uurwerk as jy en Louw nie ’n byeenkoms vir tienuur belê het nie?

    Tiaan kyk verskrik toe. Uit ondervinding weet hy om nie in te meng as grootmense rusie het nie. Dit lyk nie asof enigiemand sien wat aangaan by oom Daniël se tent nie, want mans sit en rook rustig pyp voor hulle tente terwyl vrouens rondom kookvure werskaf. Hy kyk om toe hy die kapkar hoor. Hier’s oom Louw-hulle, oom Jan! roep hy en koes agter die perde in toe albei mans hom aangluur.

    Môre, môre, groet oom Louw vriendelik. Het jy nie jou mense saamgebring vir die stemming nie, Jan?

    Natuurlik nie. Volgens jou sou ons drie eers die saak bespreek en ’n kommissie aangestel het om die regulasies neer te skryf. Hoe kan ons nou stem as ons nog nie eens weet watter ampte daar gaan wees en wie mag stem nie?

    Oom Jan is reg, sê een van die mans by oom Louw. Ek stel voor ons kom môre weer hier bymekaar om drie lede vir die kommissie te kies.

    Nee, sê iemand anders, ons kies nou die kommandant, want almal weet tog ons het net vir Jan Greyling gewag omdat hy die enigste een is wat die pad deur die Dors ken.

    Oom Jan hou sy hand op en dadelik is daar stilte. Laat die kommissie eers sy werk doen, maar daar sal opgeskud moet word. As ons nie voor einde Junie wegkom nie, sal ons hier moet oorstaan tot volgende jaar. Aangesien dit kommandant Du Plessis se trek is, is hy die regte man om die reëls te maak. Hy gluur vir oom Louw. Laat weet net volgende keer vir Erasmus ook as jy byeenkomste belê, Kommandant.

    Oom Jan groet almal, behalwe oom Daniël, met die hand en Tiaan sien verlig die effense glimlag toe hy naderkom. Nou het die dorpsjapie iets in sy pyp om te rook. Vat jy die leisels en skud op, daar’s werk wat wag.

    Wat van tant Truia se goeters?

    Nou my magtig, kêrel, hoekom het jy dit nie oorgelaai nie?

    Maar Oom het gesê ek moet dit oppas en dit kan ek mos nie op ’n ander oom se kar doen nie.

    Ook weer waar. Kom vat nooi Truia se goed, roep hy na die man wat oom Louw se perde vashou.

    Tiaan bekyk die draaiende aasvoëls in die vaalblou winterlug terwyl die perde vanself in die wapad hou. Iets het gevrek anderkant die Marico. Dan het hy hom nie laas nag verbeel hy hoor leeus in die verte brul nie.

    Wat soek jy in die lug as jou oë op die pad hoort? bring oom Jan hom terug na die hede.

    Ek wonder net wat die leeus laas nag gevang het. Dit moet iets groots wees, want die aasvoëls draai nog.

    As jy die leeus hoor brul het, het jy mos veldore, kêrel, want hulle was ver, en hier dink ek die hele tyd jy’s te lig in die broek vir Damaraland.

    Terug by die staning spring oom Jan van die waentjie af voor die perde tot stilstand gekom het. Span uit en gaan haal ons ryperde. Roep toe na tant Betta wat by die vuur doenig is: Betta, ek soek my skryfgoed.

    Tant Betta bekyk hom eers hande in die sye voor sy vir Elisabet roep: Gaan haal jou pa se skryfgoed uit die wakis en dan kom maak jy en Janetta hier klaar. Pa en Tiaan moet eet voor hulle ry. Toe oom Jan die eetgerei op die opvoutafel hardhandig eenkant toe skuif, loop sy nader. Wat gaan nou aan?

    Ek moet dadelik toestemming by opperhoof Khama kry om deur sy land te trek. Alleen, as dit moet. Piet en Motshoare moet môre die brief vir Khama vat. Louw en Erasmus gaan agter my rug knoei as ek nou hier weggaan.

    Tiaan gee haastig pad toe oom Jan raas: Basta tande tel. Kry die perde.

    Toe Tiaan met die ryperde terugkom, is oom Jan nêrens te sien nie.

    Tant Betta wink hom eenkant toe. Wat het op die vergadering gebeur?

    Tiaan kyk benoud rond, maar sy stel hom gerus: Oom Jan het ’n draai geloop. Praat gou.

    Daar was nie ’n vergadering nie, want oom Daniël het gemaak of hy niks daarvan weet nie en hy bly vir oom Jan sê ‘Kreling’. Ek was bang oom Jan gaan hom foeter.

    Nee wat, oom Jan is kortgekniehalter maar ’n slaner is hy nie. Vra maar vir die seuns. Dis ek wat die platriem inlê as dit moet.

    Oom Jan kom fluitend uit die bosse en Tiaan lei die perde weg sodat oom Jan nie moet dink hy dra stories aan by tant Betta nie. Hy staan geduldig en wag met die opgesaalde perde terwyl oom Jan met sy skryfwerk voortgaan.

    Tiaan, jy moet maar solank beestrop toe, want ek gaan nog ’n ruk besig wees hier. Sê Piet moet huis toe kom want hy en Motshoare moet vroeg môreoggend in die pad val. Ek is nou gerus dat jy en Paul alleen sal regkom.

    En waar moet ons water nou vandaan kom? wil tant Betta weet.

    Oom Jan kyk gesteurd op van sy skryfwerk. Ek en Bêrend is mos mans genoeg om dit te doen. Dan kan julle sommer die wasgoed by die rivier gaan was.

    Terwyl Tiaan sy slaapgoed aan die saal vasbind, bring tant Betta ’n meelsakkie. Droëwors, askoek en vyekonfyt vir jou en Paul. Pas jou mooi op.

    Tiaan waai sy hoed uitbundig toe hy weggalop, gerus dat hy nie terug huis toe gestuur sal word nie.

    3

    Junie 1876, Greyling-staning

    Terwyl Jan en Bêrend water aanry, sorteer Betta en Elisabet die wasgoed.

    Waar bly Janetta dan met hulle s’n? vra Betta.

    Slaap seker nog, antwoord Elisabet. Ek het haar nog nie vanoggend gewaar nie.

    Betta gaan loer in die wa. Janetta is inderdaad vas aan die slaap op hulle deurmekaar bed. Haar lang swart hare wat gewoonlik onder die kappie weggesteek is, lê soos die vlerke van ’n kraai uitgesprei oor die kussing. Sy moes haar aan die slaap gehuil het, want in haar vuis klem sy ’n sakdoek. Onvergenoeg betrag Betta die klere wat op die vloer voor die bed lê en die vuil water wat skifsels teen die rand van die waskom maak. Gelukkig is die res van die wa so toegepak met meubels en voorraad dat Janetta dit nie ook kan bemors nie.

    Ek was reg om Piet te waarsku teen die trouery met ’n kind, steun sy hardop toe sy buk om ’n hemp op te tel.

    Janetta sit verskrik regop en trek die donskombers tot onder haar ken. Wat maak Tante hier?

    Dis hoog tyd dat jy vir my Ma sê. Ek ruim op en kom Piet se wasgoed haal, want iemand moet tog vir hom sorg.

    Janetta gooi die donskombers af, spring uit die bed en gryp die hemp uit Betta se hande. Ek sal self my man se klere was. En Ma kom nie weer in my wa nie.

    Betta deins terug vir die woede in Janetta se oë en die kaal lyf wat nou soos ’n riet bewe. Het die kind dan geen skaamte nie?

    Janetta gooi haar nagrok oor haar kop en gaan voort om die klere bymekaar te maak, die sakke deur te voel en daarna in die rottangmandjie te gooi wat halfvol vuil klere is.

    Betta se wange word warm. Die kinders se begeerte na mekaar was verantwoordelik vir die warboel klere op die grond, nie Janetta se onvermoë om huis te hou nie. Ons gaan by die rivier was. Ek skink solank jou koffie, probeer sy die vrede herstel.

    ’n Week later is Piet-hulle terug, sonder antwoord. Pa moet vir Motshoare vra. Pa’t mos gesê hy moet die praatwerk doen.

    Motshoare sak op sy hurke neer by Jan wat op die kampstoel sit en Betta loop nader om nie ’n woord te mis nie.

    Ek gee hom die brief. Kgosi Khama hy laat ons drie dae sit. Ons kry lekker bier en vet vleis. Toe hy sê ons moet huis toe.

    Het hy gesê wanneer hy hierheen kom?

    Motshoare skud sy kop. Hy’s die kgosi en Oubaas die man wat die pad deur sy land soek.

    En hoe waai die wind in Khamaland?

    Die wind hy’s warm en hy’s koud. Lekker warm, want kgosi Khama hy’s nou alleen baas. Sy pa en jakkalsbroer is weggejaag tot in die land van die Bakwena. Maar die wind hy waai yskoud oor die baie Boere hier wat jag in kgosi Khama se land.

    Jan stuur vir Motshoare weg toe ’n ruiter die kampplek nader. Nie ’n woord oor die besoek aan Khama nie, waarsku hy vir Piet terwyl die ruiter nog ’n ent weg is. Dit kan een van Erasmus se mense wees wat wil kom vis.

    Gmf, dis g’n verspieder nie, snork Betta. Dis Thys de Beer wat met die laaste nagmaal soos ’n by om Elisabet gedraai het. Elisabet, gaan help vir Janetta met Piet se wasgoed.

    Waar ry jy so vroeg rond, Thys? vra Jan sonder om te groet.

    Dag, oom Jan. Dag, tant Betta. Dag, Piet, groet Thys terwyl sy oë oor die kampplek dwaal. Ek kom sê van die verkiesing wat môre gehou word. By oom Daniël se laer.

    Wie mag stem? vra Jan

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1