Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vir mans: Oorkom moderne lewensuitdagings
Vir mans: Oorkom moderne lewensuitdagings
Vir mans: Oorkom moderne lewensuitdagings
Ebook206 pages2 hours

Vir mans: Oorkom moderne lewensuitdagings

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Mans leef in 'n wêreld waar die rolle van manlikheid so baie verander het dat dit met tye vir hulle moeilik is om te weet wie hulle werklik is en wat van hulle verwag word. Die eise wat 'n gewone dag aan mans stel kan met tye selfs die mees ervare en bevoegde individu laat twyfel oor sy bevoegdhede. Dié boek skep 'n bewussyn by mense, en nie net mans nie, rondom die alledaagse en mees algemeenste lewensuitdagings wat mans huidig beleef, dit poog om mans beter toe te rus met relevante inligting wat hulle sal help om meer doeltreffende, emosioneel gelukkige en vervulde lewens te kan lei. Die boek word verdeel in verhoudingsuitdagings, verslawing, lewensfase-uitdagings, gemoedsprobleme en traumatiese ervarings.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateFeb 15, 2019
ISBN9780796317919
Vir mans: Oorkom moderne lewensuitdagings
Author

Johan Ferreira

Dr Johan Ferreira is 'n sielkundige in privaatpraktyk in Johannesburg. Hy is hoof van Sielkundige- en Terapeutiese dienste by Mosaïek Gemeente in Randburg.

Related to Vir mans

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vir mans

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vir mans - Johan Ferreira

    Vir mans

    Rus jouself toe om vervuld te leef

    Johan Ferreira

    Lux Verbi

    Inleiding

    Ons leef in ’n verwikkelde wêreld. Die eise wat ’n gewone dag aan mans stel, kan soms selfs die mees ervare en bevoegde individu laat twyfel oor sy bevoegdhede. Ek gesels elke dag met mans oor hulle alledaagse en meer spesifieke uitdagings, en het besef dat talle mans gewoon nie weet waar om te gaan aanklop om hulp nie. Nie almal se probleme is van so ’n aard dat hulle professionele hulp benodig nie, en heelwat wat wél gespesialiseerde hulp benodig, besef dit nie. Dikwels, eers wanneer dit reeds baie laat in die gang van die probleem is, gaan soek mans in desperaatheid hulp.

    Ek sou graag met hierdie boek ’n bewussyn by mense, en nie net mans nie, wou skep rakende die alledaagse en algemeenste lewensuitdagings wat mans tans beleef. Natuurlik beleef ons nie almal die volledige spektrum probleme nie, maar êrens gaan jy iemand raakloop wat moontlik jou insig in ’n situasie van groot waarde kan vind.

    Die uitnodiging is dat jy die boek lees om jou as man beter te verstaan en sodoende ’n beter man vir jou vrou te wees, te streef om ’n beter pa vir jou kinders te wees, moontlik ’n beter vriend vir jou vriende te kan wees en hopelik ’n beter begrip te hê vir jou eie pa.

    Êrens in die boek gaan jy jouself moontlik raaklees. Ek het in die boek vrae gestel wat jy jou kan afvra en jy kan dan selfondersoek doen om by ’n oplossing uit te kom. Gebruik die inligting tot jou voordeel en kyk of jy die situasie deur middel van die riglyne kan oplos, of ten minste verbeter. Die doel van die inligting is om jou by die punt te bring waar jy beter beheer kan uitoefen oor ’n probleem in jou lewe.

    Die vertellings van fiktiewe gevalle in die boek word gebruik om jou toe te rus met kennis en moontlike idees oor hoe jy na bepaalde lewensuitdagings kan kyk. Wanneer jy die stories lees, sal jy jou moontlik met sekere dele daarvan kan identifiseer en hopelik besef dat jou situasie nie so uniek is nie en dat daar vir die meeste lewensuitdagings praktiese oplossings kan wees. Ek wil mans graag beter toerus met relevante inligting wat hulle sal help om ’n meer doeltreffende, emosioneel gelukkige en vervulde lewe te kan lei.

    Lekker lees.

    Johan

    Verhoudingsuitdagings

    Die mens is ’n sosiale wese. Of ons nou sosiale kontak sterk najaag, en of ons die diep introverte van die wêreld is – verhoudings is deel van ons almal se lewe. Daarom is verhoudingsuitdagings een van die hooftemas in hierdie boek. Dikwels lê ons grootste seerkry binne hierdie konteks. Ons eerste verhoudings is met ons ouers, en in hierdie verhoudings leer ons eerstehands oor verbintenisse met ander mense. Hierdie verhoudings kan primêr goed wees, maar vir sommige mense is dit van die begin af sleg en skadelik. Hier word die bloudruk vir ons volgende verhoudings geskep. Hierna speel dié raamwerk ’n deurslaggewende rol in die aard en inhoud van ons verhoudings vorentoe.

    Die identiteit wat die man ontwikkel, sal bepaal tot watter verhoudings hy in staat sal wees. Sy menswees dui die rigting aan na watter soort verbintenisse hy sal soek en of hy bekwaam sal wees om daardie verhoudings te kan versorg en te laat groei.

    In hierdie afdeling van die boek kyk ons na die verhoudingsuitdagings wat tans die meeste voorkom en ontdek saam hoe om doeltreffender binne verhoudings te leef, in ag genome al die slaggate wat gewone mans beleef.

    My liefdesverhouding eindig

    Die sluise gaan oop

    Die jong man se hart is gebreek. Ek sien dit, want hy huil soos ’n seuntjie. Hy het eers moedig probeer voorgee dat hy in beheer van sy emosies is, maar toe ek direk vra hoe hy voel, gaan die sluise oop.

    Hy vra verskoning en probeer die stortvloed stuit, maar daar is geen keer nie. Hy kan gewoon nie ophou huil nie. So deur die trane vertel die 23-jarige sportster van sy verhouding met die mooie swartkop wat sy hart twee jaar gelede gesteel het. Sy is uiteraard in sy gedagtes die mooiste meisie wat nog ooit geleef het. Hy gaan ook nooit weer verlief raak nie en daar gaan beslis nooit weer ’n meisie wees wat na hom sal kyk soos sy dit gedoen het nie.

    Dis verby, vir altyd

    Ná twee jaar van maanskyn en rose daag sy meisie van die universiteitstad in Noordwes vir die Desembervakansie op. Hy sien so uit na hulle tyd saam. Hy het sy graad behaal, vind al ’n jaar lank sy voete in sy nuwe lewensfase en mis haar vreeslik wanneer hy alleen in die stad moet werk en leef. Toe hy haar sien, weet hy iets groots skort. Haar oë kyk nie in syne nie, en sy wil nie saam op die bank sit nie.

    Sy het besluit sy wil nie voortgaan met die verhouding nie en voel al maande lank so. Hy spring op, geskok. Maar hoekom? Waarom? Is daar iemand anders? Dis daai ou in jou klas! Dis jou vriendin se broer … Hy gryp na strooihalms. Hulle praat ure lank – sý huil, hý huil. Sy ry.

    Dis verby.

    Ek is weer ses jaar oud

    Kobus se pa het die gesin verlaat toe Kobus ses jaar oud was. Hy het een oggend skool toe gegaan en die middag toe hy by die huis kom, was sy pa se kas en motorhuis leeg. Sy ma het op die bed gesit en huil en verduidelik dat Pappa nie meer by hulle gaan bly nie. Hy het sy ma probeer vertroos, maar met min sukses. Sy het weke lank gehuil en kon later nie uit die bed uit kom om hom en sy sussie skool toe te neem nie. Kobus was woedend vir sy pa: Hoe kon hy net weggaan en hulle so los? Hy het stilletjies in sy kamer gaan huil waar niemand hom kon sien nie, want hy moes sterk wees vir sy ma en sussie.

    Nou voel hy as volwasse man weer soos die sesjarige seuntjie wat agtergelaat is. Hy is weer die een wat nie kry wat hy wil hê nie. Hy voel magteloos en verwerp en sy pyn voel oorweldigend groot.

    Hoe lank voel ek so?

    Die einde van ’n verhouding is altyd traumaties. Die verlies wat ons voel, gaan lê diep in ons binneste en word al hoe groter. Ons kan aan niks anders dink as die persoon wat nou net ’n groot gat in ons hart gelaat het nie. Die verlies aan ’n verhouding bring vir die meeste mense ’n benoudheid. Ons voel asof ons ons net kan opkrul en nooit weer opstaan nie.

    In hierdie aanvanklike skokfase dink die meeste mense nie rasioneel nie. Die emosies is diep en groot en laat die persoon voel asof die pyn vir ewig sal aanhou.

    Veral as die persoon onverwerkte verliese in sy lewensgeskiedenis het, kan die huidige verlies baie intens en oorweldigend beleef word. Ons sien in Kobus se reaksie dat die verlies aan die verhouding met sy meisie die onopgeloste pyn van die verlies aan die verhouding met sy pa sneller. Sy emosionele reaksie word nog intenser weens sy kinderjare se verlies en daarom aktiveer dit nou dieselfde denkpatroon wat hy as sesjarige gehad het.

    Hy dink en voel nou weer soos daardie seuntjie wat reddeloos op sy bed moet gaan wegkruip omdat hy nie sy ma en sussie wou ontstel nie. Nou wil hy weer met niemand praat en sy pyn deel nie.

    Wat maak ’n man dan?

    Vir die meeste mans is die emosie van verlies intens. Mans is ook maar net mense en die verlies aan ’n verhouding is seer. Die dilemma lê nie noodwendig in die belewenis van die pyn nie (dit gebeur maar vanself), maar in die hantering van die pyn. Indien jy nie daaroor gaan praat nie, dit nie kan herken en aan iemand kan erken nie, gaan die pyn jou uiteindelik kelder. Jy moet eers weet wát jy voel, en dan kan jy sê dát jy dit voel. Jou denke sal waarskynlik besoedel word deur irrasionele gedagtes. Dit sal vir jou voel asof jy dit nie gaan oorleef nie, of dat dit die einde van jou liefdespad is en jy net nooit weer dieselfde sal kan voel nie.

    Kobus sal moet vrede maak met die verlies aan die verhouding met sy pa voordat hy aan enige ander verliese kan werk. Daar is soveel mans wat grootgeword het met die scenario van die afwesige pa dat die meeste voel hulle moet daaroor kan kom sonder om met die verlies vrede te maak. Natuurlik werk ontkenning van verlies net ’n ruk en dit sal dan êrens in jou lewe negatief manifesteer.

    Ek sê tot siens vir my pa

    In die proses van vrede maak met die verliese van ons belangrikste verhoudings kan ons die platform skep om doeltreffender met die huidige verliese om te gaan. Ons voel nie so diep blootgestel nie en kom agter dat die verlies aan ’n verhouding nie ons hele lewe hoef te kaap nie. Ons moet die wrede werklikheid van die verlies beleef, maar ons kan met ons lewe aangaan en weer suksesvolle verhoudings hê.

    Ons het genoeg tyd nodig om deur ’n verhoudingsverlies te werk, maar ons hoef nie daar vas te haak en toe te laat dat die verlies nou die inhoud van ons lewe bepaal nie. Neem genoeg tyd om deur die emosies te werk, maar gaan aan met die res van jou lewe.

    ’n Paar vrae wat jy jou kan afvra om te bepaal of jy klaar gewerk het aan die verliese in jou lewe:

    1.Is daar mense in my lewe vir wie ek steeds kwaad is, al het die verhouding reeds lank gelede geëindig?

    2.Dra ek nog daagliks seer met my saam oor ’n gebroke verhouding?

    3.Is daar verhoudings waaroor ek glad nie kan praat nie?

    Soos met alle pyn en seerkry, speel vergifnis uiteindelik die deurslaggewende rol in gesondmaking. Deur die woede en hartseer saam te dra, saboteer jy slegs jou eie lewe en nie die lewe van die persoon oor wie jy so negatief voel nie. Wanneer die proses van vergifnis afgehandel is, sal jy kan onthou dat jy baie seergekry het, maar jy sal dit nie meer kan voel nie.

    Ek is ’n reeksverneuker

    Toe gebeur dit weer

    As 16-jarige verneuk Christiaan sy eerste meisie. Dit gebeur op ’n skooltoer en hy is baie verlig toe sy nie daarvan te wete kom nie. Dis nie asof hy werklik ’n verhouding met die ander meisie wou hê nie, dit was net so opwindend om te dink aan die avontuur van ’n nuwe romantiese oorwinning. Die ander meisie is diep teleurgesteld en praat nooit weer met Christiaan nie.

    In sy matriekjaar ontmoet hy ’n meisie waar hulle met vakansie is. Sy woon in ’n ander deel van die land, maar die twee val behoorlik vir mekaar. Hulle besluit, teen alle raad in, om wel die verhouding ’n kans te gee. Hulle bel gereeld en is gedurig in kontak deur middel van tegnologie. Mettertyd ontwikkel hulle diep gevoelens vir mekaar. Twee weke voor die eindeksamen verneuk Christiaan dié meisie ook. Agterna besef hy dat hy nie eintlik sleg voel daaroor nie, hy is dan nie uitgevang nie. In die jaar wat volg, is hy ’n paar keer betrokke by ander meisies sonder dat sy verhoudingsmeisie snuf in die neus kry.

    Hy is ’n goeie ou

    Christiaan is ’n goeie ou. Hy werk hard, hy is ’n goeie vriend en geniet tyd saam met sy ouers. Hy is gewild onder sy vriende, want hy hou daarvan om nuwe en interessante dinge te beleef. En aan sy sy is daar gewoonlik ’n mooi meisie. Hy is dan ook gewoonlik in ’n verhouding met daardie meisie, want Christiaan hou daarvan om te weet dat daar iemand nét vir hom is. Hy is ook meetbaar ’n goeie kêrel vir sy meisies. Hy bederf hulle met tyd en aandag.

    Maar daar is die uitdaging van getrouheid. Vir Christiaan is getrouheid ’n begrip wat hy dikwels in sy verhoudings bespreek. Hy maak seker dat die meisie met wie hy uitgaan, weet dat sy getrou aan hom moet wees. Hy wil nie die teleurstelling van ontrouheid beleef nie. En dit is hierdie beeld wat hy dan aan hulle voorhou in terme van sy eie gedrag.

    Maar dan, as hy hom weer kom kry, is hy in ’n flirtasie met iemand by die werk, of by die gim of ’n kongres. Die flirtasie laat hom goed voel oor homself, hy beleef hom as aantreklik en begeerlik en voer dan die proses verder.

    Dis ’n roetine

    Hy ken nou al die ritueel goed. Hy skep nie doelbewus die idee dat hy enkellopend en beskikbaar is nie, hy stuur net die gesprek weg van daardie onderwerpe af. Hy kom altyd baie rustig voor, maar laat min twyfel oor sy belangstelling. Sy strategie sluit altyd die begrip kom ons kyk wat gebeur of kom ons vat dit rustig in. Vroue is gefassineer hierdeur, aldus Christiaan. Dit gee hom ook die nodige tyd om steeds sy huidige verhouding in stand te hou.

    Hy is ook nie die ou wat aktief na die ander verhoudings soek nie. Hy speel gewoon die spel wanneer daar iemand oor sy pad kom wat dalk sou belangstel. Dis ’n kwessie van opportunisme, aantreklikheid en waagmoed, reken hy.

    Hy laat die interaksies tydens hierdie flirtasies nie noodwendig tot verhoudings ontwikkel nie. Dis die belangstelling, die aanvanklike onsekerheid en opwinding wat vir hom die lekkerste is. Dit laat hom vrolik en opgewek voel.

    Hy is uiters planmatig oor hoe hy sy slimfoon gebruik. Daar is rituele en roetines wat hy hom aangeleer het. Hy vee élke teksboodskap uit nadat die gesprek voltooi is. Ook die teksboodskappe van sy meisie en sy vriende. So kan niemand sê dat hy agterdogwekkend optree nie. Sy slimfoon is altyd op silent gestel en lê altyd met die gesig na onder. Niemand anders antwoord sy foon nie. Daar is nie ’n wagwoord op die foon nie, dit sou agterdog wek.

    Soms gaan daar maande verby dat Christiaan gelukkig en tevrede binne sy verhouding leef. Hy voel vervuld binne die verhouding. Hy het al baie hieroor gedink en besef dat hy nie weens ’n gebrek aan verhoudingsgeluk rondkyk nie. Hy was al uiters gelukkig en tevrede en het tog ook

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1