You are on page 1of 59

Voorwoord

Die bundeltjie is ‘n versameling van veral humoristiese verhaaltjies wat veral in


die jongste verlede in verskeie publikasies opgeneem is. Daar is egter ook ‘n
paar ouer verhaaltjies by.
Die gedagte is nie dat die verhaaltjies ‘n geheel moet vorm nie, maar is juis
uiteenlopend om afwisseling in die somervakansie te bied.

Pumba en die donders


Kersfees en Nuwejaar wanneer die meeste mense feesvier, is vir Pumba ‘n
nagmerrietyd, want dan word daar klappers geskiet. Sikke bomme.
Selfs die kalmeerstroop wat vroulief vir Pumba ingejaag het, het nie gehelp nie.
Maar dis nie al wanneer die arme boerboel se senuwees op hol raak nie.
Dit was nou al ‘n ruk droog in die Vrystaat, en toe begin dit reën.
Baie reën, en na ‘n dag of twee toe is daar uit die groute skielik ‘n harde
donderslag.
Een, twee...nog voor die uwe en vroulief tot drie kon tel toe blaf Puma benoud in
die gang, en ‘n paar oomblikke later kom sy stompstertjie tussen die bene in die
kamer ingedraf.
Al keer wat sy banger was vir harde slae was die keer toe sy agteroor die
sitkamer ingeval het, en dit geblyk het kleinman het sy duikbril en paddavoete
aangepas vir die komende seevakansie, en was in die gang op pad om te kom
wys.
En toe sien Pumba dié spektakel in die gang afkom!
Oupa en ouma Meyer het Engelse bure gehad, en die Engelse tante het gereeld
gekla oor die ander bure reën kry, maar hulle net die donders.
Pumba is bang vir die donders, dis nou maar gewis.
Maar Pumba staan in die diereryk nie alleen oor vrees vir die donders nie.
Jare gelede het Jors Troelie se pa in Amerika navorsing gedoen. Die gesin is
saam, en dit was ‘n heerlike jaar. Niks pak by die skool nie, sneeu in die twee
halwe winters en sleery op die gholfbaan agter die huise oorkant die straat, en in
die somers veld toe sonder giftige slange.
Pa Jan het embriologienavorsing gedoen. In sy klas was ‘n student, ene
Goldstein, wat ‘n groot Afro-stylharedos gehad het. Soms het van die
hoendereiers waarop geopereer is, muf gekry, en Pa Jan merk by geleentheid
hardop op dat dié eiers met die mufkoppe vir hom so baie na Goldstein lyk.
Van toe af, hoor hy, die studente praat van eiers wat ge-Goldstein het.
Maar soms broei van eiers uit, en dan was daar die fraaiste kuikens. Van die uwe
onthou, had die Toeriens altoos troetelkuikens in die huis.
En so gebeur dit toe ook dat die Toeriens in Amerika twee identiese
troetelkuikens ryker word.
Identies, behalwe as die donders kom.
As die eerste donderslag sy maak gemaak het, gaan kruip die een kuiken onder
‘n hangkas weg. Sy maat bly kordaat deur die huis loop. Cock of the walk, as’t
ware, al was dit nou maar ‘n piepklein cock.
Met yslike Pumba wat so deur die bewerasies oorval word as die donders
toeslaan, is vroulief se baster skipper, Snoetie, min gespin. Nie eens ‘n ooglid
word geknip nie, en as sy ‘n uiltjie knip, sal ‘n donder haar ook nie sommer
opgejaag kry nie.
Pa se ma, ouma Toerien, het swaar gebyt aan ons trekkery uit die Boland
Vrystaat toe. Alles waarvoor sy ‘n fobie gehad het, was in die Vrystaat, en vrees
vir die donders was een.
Slaan die donderweer tydens ‘n kuier, storm sy vreesbevange uit die huis uit.
Skaars buite, slaan die donder weer, soos gebeur as die huis tussen twee
ysterklipkoppies staan, en dan storm sy die huis in.
Dis ook sy, wat na ‘n liederlike donderstorm, gesien het die bruin pot bo-op die
lang skoorsteen is windskeef geslaan. En sy was in die huis toe daai slag getref
het!
Ouma Toerien is al lankal saliger, maar nou is Pumba haar vaandeldraer. ‘n
Waardige vaandeldraer as dit by vrees vir die donders kom.

Renosterstories
Neef Ferdie is ‘n wildboer, en renosters is sy ding.
Ferdie is nie sy regte naam nie, maar die leser sal teen die einde besef hoekom
‘n nom de arnoster aangewese is.
Boonop verkies neef Ferdie swart renosters. Dit het glo niks met kleur te make
nie, maar eerder met die humeur. Die swart renoster, so verstaan dié stadsjapie,
is effens kleiner as die wit renoster, maar die swart humeur van die swart
renoster het ‘n paar opspraakwekkende historiese aantekeninge tot gevolg
gehad.
Soos die ene wat kort na die Engelse ‘n spoorlyn Kenia se binneland ingebou
het, besluit het hy soek net niks sulke raserige indringers nie en die lokomotief
bestorm het. Die slag was so hard dat die lokomotief onklaar bly stoom afblaas
het, terwyl renoster se kind sy kop ‘n slag of wat geskud,m en weggestrompel
het.
Neef Ferdie se gunsteling renoster het ook sy naam gekry. Ferdie die renoster
was naderhand half mak vir neef Ferdie, maar versigtigheid is nooit oorboord
gegooi nie. Soos dié slag wat neef Ferdie skielik gesê het: “Laat waai!” Ons laat
waai.
Veilig in die trok verduidelik neef Ferdie: “As daai renoster sy ore begin wikkel en
sy stert swiep...”
Kort hierna is Ferdie saam met ‘n paar ander renosters verkoop. Die laaiery is
nie al te maklik nie, veral nie as dit swart renosters is nie. Hulle moet verdoof
word en dan is dit ‘n liederlike stuk bedremmelde gewig om te laai.
Neef Ferdie kyk die storie so. Ferdie die renoster wei nog heel rustig te midde
van die rumoer en neef Ferdie wonder of soveel drama regtig nodig is.
Ferdie die renoster was legendaries bekend hoeveel hy van lemoene hou. Meer
as een keer het die wildsheining dit ontgeld as ‘n lorrie met ‘n vrag lemoene
verbyry mark toe, want Ferdie kan iets vreesliks ruik. Veral lemoene.
Neef Ferdie gaan haal ‘n paar lemoene, en a la Hansie en Grietjie word lemoene
tot agter in die trok ente uit mekaar gesit. Ferdie vat die buit, en stap al loemsop-
spuitend heel rustig tot agter op die bak. Toe word gespring, en die trok
toegemaak.
“Toe leer ek hoekom renosters, in elk geval swart renosters, nie so getrok word
nie.”
Die trok was net toe, toe strip daai swart renoster sy moer iets allerverskrikliks.
Sommer gou is dit duidelik as daar iets van die trok moet oorbly, moet Ferdie
daar afkom. Die bak word oopgemaak en almal laat spaander, want nie eens ‘n
ton lemoene sou nou Ferdie se bui gou laat sak nie.
Ou Pula het ‘n mank been, en Ferdie pik op hom. Net, net betyds haal Pula ‘n
stewige karee, en soos neef Ferdie sê, met die afkomslag gryp Pula een van die
boonste takke vas.
Maar Ferdie die renoster se briekse en belyning is nie heeltemal skerp genoeg
om betyds op Pula se “disappearing act” te reageer nie, en hy dryf daai lang
neushoring tot by die neusgate in die karee in.
Neef Ferdie sê almal wil nog verlig raak, want ‘n karee laat so ‘n neushoring soos
‘n bajonet vassuig. Maar watwou, Ferdie die renoster is gans te die hoenders in
om hom so te laat vang. Hy begin ruk, met die gevolg daai boom werk soos ‘n
kleilat en hy slinger vir Pula in ‘n blinkblaar in. Almal wou nog wonder of Pula dit
oorleef het, toe trek hy al vyftig meter verder, met die helfte van sy oorpak wat in
die blinkblaar agtergebly het.
Nou moet ek darem ter versagting bysê as ek nou dalk half wyd met die
waarheid omgaan, neef Ferdie las partykeer dinge by sy stories om dit
interessanter te maak – nie lieg nie, maar ‘n stadsjapie kan dalk nie agterkom dis
spekskiet nie en dit vir die waarheid opdis.
Vertel neef Ferdie, daai karee staan toe op klipperige grond, en met die gespook
lig Ferdie die renoster die boom met wortels en tak uit daai losserige bodem. Hy
skud sy kop ‘n slag of wat woes, en daar trek die boom.
Nou moet ek eers weer ‘n draai gaan maak om die storie te kan vertel soos dit is.
Ma het in haar dae voor sy met pa getroud geraak het, vir ‘n Engelse klas
Afrikaans gegee. By geleentheid moes die klompie opstel skryf oor ‘n
jagervaring. Bygesê, destyds is renosters nog gejag, en nie net gestroop nie.
Die een knaap se storie handel oor sy pa wat gaan renosterjag het. Maar toe
“wond” hy die renoster. En toe gaan soek daai renoster die man wat hom
gewond het.
“Die renoster is so kwaad, hy kyk agter hierdie boom, en hy kyk agter daardie
boom.”
Die probleem is, sê ma, die Engelse kinders raak soms vreeslik deurmekaar met
die Afrikaanse “y”, en die “a” wat in Engels mos ook as “y” uitgespreek word.
Dit was dus nie soseer ge-“kyk” wat die renoster so agter die bome gedoen het
nie.
Dié storie het al lankal by neef Ferdie uitgekom, synde hy ook so met renosters
deurmekaar is.
“Daai Ferdie was so kwaad, hy het nie eens gebodder om agter die bome te
gaan kyk nie. Dis net die ene bolle.”
Nie lank na Ferdie die renoster se vertrek nie, kry neef Ferdie ‘n beter aanbod en
verhuis na ‘n ander provinsie. Ook hier word op die wildsplaas met renosters
gespesialiseer.
“Ons koop toe ‘n plaas by om uit te brei, en natuurbewaring kom doen inspeksie.
Terwyl hulle die kamp inspekteer wei daar ‘n klompie springbokke in die kamp
wat maar daar was toe ons die plaas gekoop het.
“Een van die Natuurbewaringsmense bekyk die springbokke skepties, en vra toe
vir neef Ferdie: ‘Dink jy daar is genoeg springbokke vir die renosters om te eet?’
“Nou kan ‘n man ook nie eens lag nie, want of hulle nou iets weet of nie, hulle het
wye magte en kan ‘n man se aansoek afkeur.”
“Ja’” lag ek saam. “Soos almal weet vreet renosters eintlik rooibokke.”
“Ja, nie springbokke nie.”
Gelukkig nie want daar het juis pas ‘n klompie uitgediende springbokke uit
Europa aangekom.

Avbobstaaltjies
Onder die dinge wat Herrie al om den brode gedoen het was om ‘n
leerlingbegrafnisondernemer te wees.
En al was Pa Jan ‘n proffie in Anatomie het Herrie maar altoos gehoop sy lewe
kon so verloop dat hy nooit ‘n lyk in lewende wywe hoef te sien nie, by wyse van
spreke.
Maar dit was Herrie nie beskore nie. Boonop was daar ‘n vlaag grusame
gebeurtenisse, en die gevolge het oor Herrie se “tafel” beweeg.
Maa dis nie waaroor Herrie dit hier het nie. ‘n Ooreenkoms tot geheimhouding
verhinder Herrie om met die volle kis vorendag te kom.
Maar darem so iets hier en daar.
Op ‘n dag is die ontvangs vol jonge dames, die een se rokkie korter as die ander.
En almal begaan oor spesifiek een lyk.
Herrie gaan kyk hoe die skynbare stoetbul van Bloemfontein lyk. Hy het weens ‘n
meswond in die stof gebyt. Maar dis toe die naam wat Herrie amuseer. Ter wille
van die nageslag verander Herrie dit bietjie: Jackie Chang Conradie.
“Jackie Chang Conradie” se moordsaak is toe kort daarna in die hof, en Herrie
kom meer van dié persoon te wete.
Sy man, blyk dit, was ‘n bordeeleienaar, en Jackie Chang is hierin opgesluit om
hom van die dwelms skoon te probeer maak. En ai, so tussenin doen hy toe
slegte geselskap op.
Op ‘n dag is die polisie daar, en hulle soek vir Herrie. Herrie pleit bewusteloos,
tot hy onthou van die heel eerste lyk wat hy ingesit het – ‘n kontrakbegrafnis van
armlastiges, met die naam “Jonas” met filtpen op die kis geskryf. Jonas en ‘n
vrag Vigsbabas is so met hul yskoue kissies opmekaar gepak in ongemerkte
grafte weggelê.
Maar nou het Jonas ‘n naam, en familie en ‘n prokureur en die polisie. En hulle
soek Herrie oor daai onwettige begrafnis.
Maar Herrie het lank in die staat gewerk en van kortpaaie met korrupsie kon
Herrie min geleer word. Trouens, Herrie onthou nog hoe sy hoofdirekteur, in die
tenwoordigheid van die regsadviseur, by Herrie gepleit het om so nou en dan sy
diskresie te gebruik en anderpad te kyk, Herrie se felheid teen korrupsie skep vir
die nuwe regering (met Lektota as premier) probleme. En hy sal dit voor die Here
ontken as Herrie dit herhaal.
Dus het Herrie die storie geken nog voor hulle begin het.
As iemand in Pelenomi-hospitaal dood gaan, word ‘n telegram na die afsterwe na
die familie wat opgegee is gestuur. As daar dan nie binne twee weke reaksie van
die familie is nie, word die persoon armlastig begrawe.
Wanneer die familie seker is die afgestorwene is reeds so onwaardig begraaf,
daag hulle skielik met ‘n prokureur gewapen by die hospitaal en
begrafnisondernemer op, en sê hulle het daai telegram nooit gekry nie, en eis en
kry ‘n ordentlike begrafnis op staatskoste.
Op ‘n dag is daar weer ‘n rumoer in die portaal. Dis ‘n dokter by ‘n privaat
hospitaal wat ‘n pasiënt wat in die hospitaal dood is wil laat begraaf, maar die
oorledene maak heftig beswaar. Die moeilikheid, blyk dit, is dat die oorledene nie
net ‘n ander se naam geleen het vir sy hospitaalverblyf nie, hy het sommer op sy
mediese fonds ook vertoef. Alles sou ook mooi uitgewerk het as die pasiënt nie
loop lol het om dood te gaan nie.
Die dokter raas oor bedrog, en die “oorledene” wil doodseker maak hy word nie
weens die “misverstand” ingespit nie. Presies hoe ‘n groot misverstand hy nou
gereken het dit kan wees weet nugter, want dit was hy sigselwers wat sy mater
kom inboek het (by die hospitaal). Ook ‘n ou laai, verneem Herrie toe.
Op ‘n dag wil ‘n antie die begrafnisondernemer en misipaal net hof toe sleep. Sy
en ander susters het as draers van iemand by die graf opgetree, maar tussen
haar eie gewig en die een in die kis se gewig het die graf-rand ingegee. Sy is toe
nog voor die kis die graf in, tussen die aflaat en die kant in, met die gevolg dat sy
goed deurgeglip, maar haar rok heel onsedelik bo gebly het.
En mens raak nie onsedelik by ‘n graf nie. Die kollega wat die begrafnis behartig
het, trek net skouers op en sê hy het hulle gewaarsku om nie so na-aan die rand
te kom nie.
“Sê jy miskien ek is vet?!” En woerts, weg is hy.
Die bestuurder, voorheen konsul genoem, vertel hy het ‘n begrafnis op die
Kaapse Vlakte behartig. Die grond is erg sanderig, en die priester hou aan te na
aan die kant karring, en dan sien hy hoe begin die bodem wegsak, en druk hy die
priester terug na veiliger grond.
Maar die priester wil nou voor wees, en daar gaat hy, ook met kis en al die graf
in.
‘n Paar jaar later staan kollega Abrie op troue. Abrie het naamlik een van die
trou-koôrdineerders aangestel sodat hy nie so baie self hoef voor te berei vir die
troue nie en meer kon vry. Die gevolg, hy was tien keer besiger in die aanloop tot
sy troue as wat Herrie met syne was.
‘n Mens sien Abrie skaars. Is hy op kantoor, is hy op die telefoon, en voor mens
nog more kan sê is hy weer vort om dit waarmee die huwelikskoördineerder hom
so mooi help self te gaan doen.
So tussenin onthou Herrie van ‘n vroulike kollega van jare toet wat ook so aan
die telefoon vasgegroei het toe sy troureëlings getref het. Is sy ‘n rukkie uit, lê
daar ‘n vraggie boodskappe van mense wat sy moet bel.
So ‘n hopie lê by Abrie se lessenaar. En Herrie sit een tussenin: “Bel asb vir mnr.
Luyk in verband met reëlings.”
Abrie kry die boodskap en bel. Dis Herrie se oud-kolega, mev. Steenbok by
Avbob, wat antwoord. Sy is in die tradisie van die bestuurder – mens spot nie
met die dood nie.
“Kan ek asseblief met mnr. Luyk praat?”
“Watter een, ons het baie?” vra mev. Steenbok.

Baie sterk
Herrie is ook ‘n nasaat van die De Neckers, en spoor die vakansie ‘n boekie oor
dié familie op. Bietjie van ‘n anti-klimaks, want Herrie se besonderhede is
opgeneem, maar nie een van Herrie se name is reg aangeteken nie.
Maar dis nie eintlik waaroor Herrie dit hier het nie. Die skrywer, wyle oom Frans
de Necker, ‘n jonger broer van wyle ds. Kobus de Necker van Warden, het ‘n
spesiale hoofstuk aan sterk De Neckers gewy. Voor die voet gelukkig saggeaard
en baie beskeie. Maar sterk was van hulle baie sterk.
Maar die bul, die sterkste van almal, was oom Jan de Necker wat buite
Herriesmith, ekskuus, Harrismith, geboer het. Oom Frans wy ‘n paragraaf aan
dié oom Jan se nommer 14 voete, maar Herrie is hiermee nie alteveel beïndruk
nie, want Groot Herrie is hoërskool toe met nommer 13-skoene aan sy voete.
Oom Jan het van sy plaas af sommer oor Platberg te perd dorp toe gery. Op ‘n
dag ontdek hy die eienaar het draad oor sy kortpad gespan. In die dorp wou die
manne weet of hy nie kwaad was nie.
“Ag nee wat, ek het sommer die perd oor die draad getel.”
En, vertel oom Frans, daai storie van die eenskaarploeg wat so orals uitslaan, is
waar. En daar is ‘n dominee as getuie dat dié storie na oom Jan toe teruggevoer
kan word.
Volgens oorlewering het oom Jan geploeg toe iemand te perd verbykom en vra
of hy nie dalk weet waar dié oom Jan woon wat glo so sterk is nie. Oom Jan tel
die eenskaarploeg op, en beduie daarmee in die rigting van sy huis: “Ja, daar by
daai huis woon hy.”

Blik Oor en die silwer randjie


“Maar julle verstaan die Indiërkultuur nie lekker nie,” sê oom Brand de Wijn toe
ons kla oor Jan Taks wat so ongenadig is.
“Hoe nou oom?”
“Man, tot ou Bitterbang Bibberbeentjies Malema is suur oor die ekonomie en
finansies van die staat uit, soos hy dit noem, die hande van etniese Africans
gehou word. Intussen is daar ‘n hele klomp Indiërs wat openlik spog oor die baie
Indiërs wat in die hengse groot kabinet is. So baie, ek hoor hulle gaan die kabinet
nou na die Kabaal herdoop.”
“’n Kabaal kan hulle maak,” brom neef Korrel Kop. “Veral as iemand wil sorg dat
Eskom se kerse nie geblus word nie.”
“Julle sien,” sê oom Brand, “julle kan nie meer die skuld op Jan Taks pak nie. Hy
het met affirmative action lankal die trekpas gekry.”
“Nou wat moet ons hulle dan noem?”
“Reddy’s Bargain House. Julle moet net ready wees om te bargain.”
“Klink vir my steeds dis ‘n geval van hoes en betaal is die wet wat nie faal.”
“Maar mens kan darem bargain oor hoe diep in die *&^ ‘n mens moet wees.”
“Vir my,” brom ek, “lyk dit meer of dit net die Ministers van Uitgawes is wat
suksesvol gebargain kry. Al blinker karre namate die soustrein se spore vir skroot
verkoop word, ‘n paar besoeke aan polisiestasies terwyl ‘n man met sy gevolg
oor Kerstyd in ‘n peperduur hotel op die Durbanse strandfront bly, ‘n goue
handdruk van R7 miljoen vir die man wat nou weer sy sakke kan volstop in ‘n
nuwe deployment – te lekker.”
“Julle is al weer vreeslik negatief,” roep mevv Kop en Oor uit die sitkamer.
“Probeer liefs oor iets positiefs praat.
Ons dink ‘n oomblik hard. Met die Curriebeker op Loftus is die silwer randjie erg
deurgeskuur en skif.
“Gelukkig hou die ys my drankie lekker koud,” sê oom Brand, te bly hy het iets
positiefs gekry om te sê.
“Gelukkig is my hoed se rand so wyd dit keer dat die son my gesig brand,” sê
Korrel.
“Dan is dit seker iets anders wat jou so rooi in die gesig maak!” roep mev. Kop uit
die sitkamer.
“Ons probeer iets positiefs kry om te sê,” raas Korrel terug.
“Gelukkig hou ek van my Boerewors houtskool gebraai,” onthou ek van die
worsie op die kole.
Heng, dis maklik om aan iets positiefs te dink as mens net probeer.

Blik Oor oor die land se probleemoplossings


Nou een aand het die Ore ‘n paar familielede oorgenooi vir ‘n vleisie op die kole.
Met die vleispryse van vandag en die Groenes wat kla oor die baie metaangas
wat veeproduksie afgee, was dit maar klein vliesies.
Toe ek dan vir neef Korrel Kop vra hoe hy sy vleis gevind het, toe sê hy hy het
net die tjip opgetel toe vind hy dit nét daar.
Nietemin, oom Brand de Wijn, die Ore se oom van Nederlandse herkoms, het nie
oor die grootte van die vleis gekla nie. Net oor die grootte van die glas.
Seg neef Korrel: “Blik, wat dink jy van die politici?”
Na ‘n ruk vra hy: “Gaan jy dan niks sê nie?”
“O,” seg ek, “ek dog jy vra wat jy van hulle dink.”
Oom Brand was teen daardie tijd, ekskuus, tyd al vuurwarm.
“Die *&^%$ %^$ *#&$ #&$#!”
“Netso, sê Jors Troelie en Korrel gelyk.”
“Nou het Zuma waaragtig daai klein Malema as toekomstige leier gaan salf!”
Oom Brand is boos: “Pisangrepubliek!”
“Dink oom daar gaan nog ‘n piesangboerdery oor wees as Malema eendag prez
moet word?” vra Korrel.
“Goed-goed, makataanrepubliek,” sê oom Brand. “Of karkoerrepubliek.”
“Julle is darem heeltemal te pessimisties,” sê ek. “Volgens die VN se
Ontwikkelingsindeks het Suid-Afrika nou eers tot die 129ste laagste plek uit 183
lande gesak. Daar is omtrent nog 50 plekke oor om heel onder te kom.”
“Nie sleg vir die land wat ‘n paar dekades gelede die wêreld se eerste
suksesvolle hartoorplanting gedoen het nie,” brom oom Brand.
“Nou is daar gevaar dat ons Mediese fakulteit sal moet toemaak as iemand nie
begin vinger trek nie.”
“Maak nie saak nie, dok Manto het mos klaar die wet so aangepas dat
toordokters se pasiënte ook nou van mediese fondse kan eis. Versiendheid aan
die dag gelê. Wat sal Suid-Afrika nou so spook om dokters vir Kanada op te lei,
as ons heel goed met toordokters oor die weg kan kom?” sê Korrel.
“Solank mens net nie donkerskool toe hoef te gaan nie. Daai toordokters se vuil
messies glip te gereeld en ‘n man kan doodgaan, of nog erger, skade daar
onderlangs kry,” sê oom Brand.
Ons klink glasies. Op die karkoerrepubliek en president Malema!
“Sies!” sê mevv Oor en Kop gelyk. “Gaan spoel jul mense met iets sterks uit.”
“Dankie,” sê ek en Korrel gelyk en gaan maak ons glase weer vol.
Dan sê party mense nog ons Afrikaners kan nie saamstaan nie. Wél, saam praat
kan ons darem.
“Ek bedoel nou eintlik oor die Chuene’s, Komphela’s en so aan,” verduidelik
Korrel. “Die politieke kommissarisse.”
“Eintlik politieke kom-as-narre,” brom ek.
“Die *&^ $%# %$#* sje!” laat hoor oom Brand weer van hom.
“Al wat ek weet is as mens ‘n politieke kom-as-nar aan die hoof van ‘n sekere
kragvoorsiener sit, gaan die krag gelyk af en die prys op.”
“Weet jy hoe sjukkel mensj met eisj, ekskuus, ys, as die krag afgaan?” vra oom
Band.
Ja, mens kan nogal dink dit gee ‘n krisis in die De Wijn-huishouding af, wat net
uit oom Brand bestaan na tannie Rooi Wijn haar goed gevat en met haar rooi
haredos die pad gevat het.
Baie mense het al in die verlede gemeen as iemand net ‘n bandopnemer in ‘n
kroeg aangeskakel hou, en iemand luister die volgende dag daarna, gaan hy met
oplossings vir al die land se probleme sit. Ek besluit om die bandopnemer aan te
skakel, en sal maar die volgende dag oom Brand se sêgoed doof.
Net om te kyk hoeveel water dié teorie hou.
“Wat doen ons met die ekonomie?” vra ek na ek die masjien skelmpies
aangeskakel het.
“’n Mens moet stabiliteit en eenvormigheid in regeringsuitsprake kry sodat
beleggers dieselfde...” Dit was nou Korrel.
“...dan faaier onsj die hele ^%$#sje lot,” voltooi oom Brand die sin.
“En misdaad?”
“Die polisie moet beter opgelei en....”
“Sjkiet die hele &^%$sje lot...”
“Wat van voedselsekuriteit?”
“Die regering sal moet besin oor sy grondbeleid...”
“Sjit vir hulle almal kleintyd al rekkiesj aan...”
Sjo, ekskuus, so gaan dit die hele aand.
Die volgende dag luister ek. My Blikore tuit, maar wie die meeste sin gemaak het
sjal, ekskuus, sal ek maar verswyg.
Markmoeilikheid
Die bestuur
Langenhovenpark-boeremark

Geagte bestuur
By geleentheid het ek tydens ‘n vergadering van stalletjiehouers versoek dat die
moontlikheid oorweeg moet word om draad tussen die agterkante van stalletjies
te span in ‘n poging om die deurkruipery te probeer voorkom.
Ek is destyds “afgeskiet” onder meer omdat een stalletjiehouer kortpad wil neem
om te gaan piepie. Die besluit was dat elke stalletjiehouer self moet toesien dat
mense nie deurkruip nie.
Sedertdien het ons dit probeer doen, maar met baie min sukses. Daar is steeds
‘n deurkruipery, selfs al is alle moontlike deurgange toegepak. Onse mense is so
met mekaar ondergrawe gekonfyt, deurkruipery waar iemand die gat toegestop
het in kinderspeletjies.
Die probleme met die deurkruipery, soos deur verskillende stalletjiehouers
ondervind is:
- Items, soos geld, word gesteel deur mense wat van agter inkruip terwyl ‘n
mens voor besig is om klante te help. Veral groepies kinders span
blykbaar saam om die stalletjiehouer voor met ooglopend opgemaakte
vrae besig te hou, terwyl maats van agter deurkruip in ‘n poging om te
steel. Evolusie het ‘n mens van oë agter die kop gestroop maar mense
met lang vingers toegerus.
- Uitstalmateriaal word omgestamp. Hoe nouer die deurkruipgaatjies, hoe
dikker is die mense wat kans sien om daardeur te wurm. Ek het al
taamlike groot skade gehad met verkoopsvoorraad wat krapmerke van die
omval op die gruis opdoen. Uitstallers wat skilderye uitstal het al groot
skade opgedoen met skilderye wat gesigkant op die gruis omgestamp is.
Het die geagte bestuur al gesien hoe verspot lyk ‘n dik tante wat oor en
deur versperrings klim en kruip? Sies!
- Van die deurkruipers loop doodgewoon oor uitstalmateriaal, soos vroue se
hekelwerk. Dit reflekteer die swakste moontlike opvoeding van mense.
Sommiges het nog ‘n brakkie aan ‘n leiband wat lustig die roete merk vir
netnou se terugkruip.
- By meer as een geleentheid is kastrolle met kookolie omgestamp. Dit kan
erge beserings tot gevolg hê. Soos u bewus is, het die
gesondheidsdepartement nie ‘n lisensie toegestaan om mense te kook
nie.
- Ons het by geleentheid veiligheidstoerusting bemark en gedemonstreer,
en dan aan die agterkant van die stalletjie ‘n kennisgewing opgesit wat lui
dat gevaarlike toerusting gedemonstreer word, en daar dus geen toegang
is nie. Op ‘n manier oorkom van die deurkruipers al die hindernisse wat
gespan is, en ‘n paar is op ‘n nerf na raakgeslaan deur toerusting wat lag-
lag skedelbreuk tot gevolg sou hê. Gelukkig bemark ons ook
noodhulptoerusting, maar nie skopgrafies om die harsings mee op te skep
en terug in die harspanne in te prop nie.
- Van die deurkruipers sal by ‘n “ingang” inloop, en dan aan die agerkant
besef hulle kan nie deurkom nie. Hier sal hulle ‘n hele ent aan die
stalletjies se agterkante beweeg tot hulle ‘n deurkruipplek kry, en dan
uitbeweeg, en in die proses verskeie items omstamp, of in die uitstallers
vasloop. Nig Salie se kruppel swaer weet blykbaar nie daar is ‘n dwarspad
nie, hy sal op en af hink tot hy meen hy kry ‘n stegie waardeur hy kan
kruip.
Ek meen ook dit neem langer om te gaan piepie deur “kortpad” deur ‘n
“hindernisbaan” te neem, as om bloot met die paadjies om te beweeg.
Van die deurkruipers is erg ontevrede omdat dit in effek onmoontlik gemaak word
om deur te kruip, en wil in woordewisselings betrokke raak. As ‘n mens
verduidelik dis omdat mens se geld en voorraad gesteel word, vererg hulle hul
kwaai (‘n mens het in die reël nie tyd om die hele problematiek te verduidelik
nie).
Volgens die riglyne van die boeremark kom dit voor asof die bestuur half teë
daarop is dat ‘n mens deurkruipers neek wat iets beskadig, en dan hul nekke
daaroor rek. Ek versoek dus dat die bestuur ‘n noodhulpstalletjie inrig waar onder
meer stalletjiehouers kalmeermiddels ingejaag kan word, en van waar
deurkruipers na Ongevalle afgevoer kan word.
Tydens die aandmark klink dit soos doef-doefmusiek soos mense in die donker
oor die toue ens val wat gespan word om deurkruipery te keer, of bloot die
gazebo’s se spantoue, en van die mense wat geval het is erg ontevrede daaroor.
Hulle is skynbaar nie baie erg oor sosaties of pannekoek vol gruis nie.
Ek besef, veral nou met die koste van die duiwelsvurk-omheining, is die span van
draad tussen die stalletjies se agterkante nie ‘n opsie nie.
Ek versoek dus dat die bestuur hul standpunt oor die afranseling van
deurkruipers heroorweeg, of stalletjiehouers magtig om tolgeld te vra.
Die uwe
Herman Toerien
Kameeldoringlaan 113 B

Kop van Ghanese koning en dadels van kom


Min Suid-Afrikaners weet dat die gebied wat vandag as Ghana bekend staan, nie
baie lank gelede nie ‘n Nederlandse kolonie was.
Pas het ‘n stukkie geskiedenis uit hierdie era sy finale verloop geneem. Die
Nederlandse regering het die week die kop van ‘n Ahantsa koning, Badu Bonsu
II, wat hulle in 1838 onthoof het, tydens ‘n seremonie Den Haag aan die
Ghanese regering en afstammelinge oorhandig. Die Nederlanders het die kop by
die Universiteit Leiden in versterkwater gehou, waar dit deur die Ghanese
ambassadeur opgespoor is.
In die emosies wat erg tydens die seremonie opgewel het, het ‘n afstammeling
selfs gedreig dat van die terugneem van die kop na Ghana dadels gaan kom. Hy
is later deur ander gerepudieer.
Die ironie is dat die Afrikaanse uitdrukking, dadels van kom, moontlik ‘n Ghanese
verbintenis het.
In 1818 sterf die destydse Nederlandse goewerneur, Herman Willem Daendels
(met wisselvorm Daedels) in die Nederlanders se destydse Ghanese hoofsetel,
St. George d'Elmina. Wikepedia beskryf sy sterfte as die onvervulling van sy
Ghanese ambisies, wat baie groot planne ingesluit het.
Die malaria wat daartoe gelei het dat van sy Ghanese ideale dadels gekom het,
was egter nie al geleentheid waar sy drome nie in vervulling gegaan het nie. Ook
van sy senior posisie as soldaat aan die kant van Napoleon se Bataafse
besettingsmagte het nie veel gekom nie, en sy tydperk hierna as goewerneur-
generaal in Batavia het ook min blywende prestasies opgelewer.
Dit is juis sy heerskappy in Batavia waar die uitdrukking, dadels van kom,
waarskynlik sy ontstaan het en in die Kaap neerslag gevind het.
Naas Java was die kleiner eiland, Madura (Madoera), ‘n baie belangrike deel van
die Nederlandse Oos-Indiese besitteings. Madura weer, staan ook bekend as die
einland van “Komen en Gaan,” wat betreklik onlangs weer lewe ingeblaas is deur
die verskyning van ‘n Nederlandse boek met dié naam, en wat oor die eiland
handel.
Die benaming kom egter uit ‘n veel ouer era, toe talle Indonesiese eilande,
waaronder Madura, deel was van die ryk van Koeblai Kahn.
Destyds moes senior amptenare wat na die eilandbesittings gestuur word en
herroep word, van die beskikbaarheid van gewone handelskepe gebruik maak.
So het dit nie net gebeur dat selfs die goewerneurs voortdurend “gekomen en
gegaan” het nie, maar dat die kolonies selfs baie agteruitgegaan het in die
langdurige afwesigheid van goewerneurs en hul admistrasies. Madoera in die
besonder is baie erg geraak deur hierdie “komen en gaan” van goewerneurs.
Hoewel min bronne na die uitdrukking van “Daendels van Komen en Gaan”
verwys, kom dit tog voor.
Koppel hieraan Wikepedia se beskrywing na afloop van die Ghanese hoofstuk:
“Eventually none of the plans came to fruition” dan is dit moontlik dat Daendels
wel ‘n blywende indruk op Afrikaans gelaat het.
In die Kaap het skynbaar juis ‘n persepsie bestaan dat Daendels nie besonder
bekwaam was nie. Die laaste Nederlandse goewerneur aan die Kaap, Jan
Willem Jansens, het vir Daendels as goewerneur-generaal van Batavia
opgevolg, en tussen dié twee was sake nie baie gemoedelik nie. Daendels het
probeer wal gooi dat Jansens hom opvolg, maar hiervan het dadels gekom. Toe
was Jansens weer erg krities in sy verslae oor sy voorganger – blykbaar onnodig
krities.

Die degie
‘n Storie het die geneigdheid om in verskeie gedaantes te herverskyn, en elke
keer as die waarheid opgedis te word.
Herrie het grootgeword met die storie van ou Aggenbach wat langs die see aan
die Weskus gaan loop het en die groot ongeluk oorgekom het. Jan Spies het op
hierdie weergawe uitgebrei.
En toe in ‘n boek oor staaltjies uit die Anglo-Boere-oorlog kry Herrie dieselfde
storie, net baie ouer, en in die Vrystaat.
Die Harrismith-kommando het deurgedruk Ladybrand toe om ‘n voorhoede
Engelse soldate voor te keer, toe by Fouriesburg by die plaas van die Marais’
aangegaan is.
Jong Madeleine was juis besig om rooi hakskene te ontwikkel, en nie onaardig
vir die oog nie. En die sestienjarige Danie Cordier het juis beginne hardebaard
kry.
Toe die kommando ‘n paar uur later op vertrek staan, vra Danie verlof om ‘n
rukkie langer te vertoef. Die kommandant, ook eenmaal so jonk, aarsel, en teen
sy beterwete gee hy toestemming. Maar as Danie teen die aand nog nie ingehaal
het nie, gaan die sambok praat.
‘n Hartseer Danie vertrek toe ook ‘n paar uur later. Op sy rug, langs die Mauser,
hang ‘n kannetjie klaargekniegde deeg vir stokbrood.
Nie ver nie, toe bak die sakkende sonntjie in Danie se blaaie, en nie lank nie
beginne daai deeg te reis. En skiet die deksel van die kan af, kaplaks agter teen
die ridder se kop.
Danie meen dis die Mauser wat afgegaan het, en slaat neer. Daar, in ‘n donga, lê
hy om gehaal te word. Boontoe.
Maar na ‘n ruk besef Danie die dood bly uit, en hy begin voel-voel hier agter sy
kop, tot hy aan iets klams vat. Hy trek sy besmeerde hand weer in oogsig. Pure
harsings!
Naderhand besef Danie hy moet plan maak, en ry terug plaas toe. Die tante
verpleeg Danie met sorg – draai versigtig skoon gaas om sy kop, want daar kom
so maklik kwaad in harsings.
Madeleine het gou genoeg gesien dis die deeg wat die moeilikheid maak, maar
bly tjoepstil. Dis nie aldag dat ‘n vryersklong in ‘n oorlog soveel grasie gaan kry
om in haar sorg te vertoewe nie.

Durban, hier kom ons


Al ooit gewonder hoekom die Natallers die Transvalers die sopkoppies noem, en
nie die Vrystaters nie?
Dis nou na aanleiding van die binnelanders wat in Durban met hul kleintjies op
die nek geabba loop, en oral vir die kleintjie sê: “Soppie koppie.”
Wel miskien het ek die antwoord, maar ek moet nou eers op ‘n heel ander punt
begin.
Ons bure se huis spook glo, aldus die pa van een van die vorige inwoners.
Hieroor kan ek my nie met gesag uitlaat nie, maar behalwe vir die huidige
inwoners, het die voriges gou getrek. Goeie bure, maar bure wat ons
onderskeidelik by die welsyn, die DBV en die polisie gerapporteer het.
Een is vroeg graf toe. Sy lewer het opgepak, en ‘n mens het nie drie raaie nodig
oor hoekom dit gebeur het nie.
Kassie was nou waragtag sosiaal. Heel die teenoorgestelde van die uwes, wat
selfs al had ons die belusting vir soveel gejol, dit gewoon nie kan bekostig nie.
Een van Kassie se gereelde sosiale uitstappies was saam met familie en vriende
uit die Kalahari na enige rugbywedstryd in Durban waarvoor min of meer ‘n saak
uitgemaak kan word. Of dit nou ‘n toets, of ‘n Cheetah-Haai-wedstryd, of ‘n WP-
Haai-wedstryd was, dan is gepak en gery. Kassie het in die WP grootgeword –
die dat die WP vir die ryslag gekwalifiseer het.
Die ryding was ‘n yslike plaaslorrie. Dié het van Olifantshoek se wêreld van ‘n
familielid se plaas gekom, en onderweg Durban toe vir Kassie opgelaai.
Vir so ‘n aftog word ‘n braaier en tuinmeubels agterop die lorrie vasgeswys.
Vorige ondervindings het bewys dis beter om die goed vas te swys.
En so in die ry word gebraai.
Reg agter die kap word ‘n klomp dubbelbedmatrasse en ander dik kooigoed
gegooi, want om van Olifantsfontein Durban toe te ry, moet ‘n mens deur die
Vrystaat ry, en in die rugbyseisoen is dit gewoonlik koud agterop ‘n oop lorrie.
Veral soms.
Aan die agterkant is ‘n longdrop vasgeswys.
Toe kry die uwe onsmaaklikheid by die werk, en is baie moerig en ongelukkig, en
Kassie sien dit en nooi my saam, wel wetend dis nie my styl nie. Maar Mevrou
hoor die uitnodiging, en sy besluit so ‘n wegbreek saam met die manne sal net
die ding wees.
So met die opklim, wil ek weet van wat ek vir die kaartjie skuld, en die blyplek.
Die “Moenie wharrie” nie, kom ek naderhand agter beteken daar is nog g’n
kaartjie gekoop nie, en geen blyplek bespreek nie. Op my vraag hieroor kry ek
net weer ‘n “moenie wharrie” nie.
By Kassie se huis is die vuur in die braaier solank aangesteek. Ek wonder
hieroor, en met goeie rede. Die ander manne wat ry is Wollie, Willie, die stil
broers Hennie en Salie, en Bokkie. Marius se vrou het ‘n stokkie voor sy
saamkommery gesteek, en Gerrie was nie meer in staat om op die lorrie te klim
nie.
Skaars op die verbypad, trek die luggie so koud agterop die bak dat almal onder
die kooigoed in verdwyn. Omtrent net die neuse en oë steek uit. Die voggies
word so onder die komberse gedrink. Die “vuur” in die braaier is die ene vonke.
Na ‘n ruk besluit Wollie die kole is reg, en ‘n stuk wors word opgediep. Wollie
duik net betyds om nie te verkluim nie onder die komberse in. Net elke af en toe
is iemand koes-koes longdrop toe. Ek self het gedink om te knyp tot ek ons
iewers stilhou, maar stilhou is min, en ek is naderhand ook londrop toe. In plaas
van ‘n half vol emmer wat ek verwag is daar niks van die aard nie, net ‘n gat in
die bak wat met ‘n sweisvlam gebrand is. Teen die longdrop se agterste muur is
‘n sitplek, ook met ‘n gat in, opgeslaan.
Terug onder die kooigoed, so deur die skrefies lyk dit my daai wors word met ‘n
sweisvlam gebraai, so trek die vonke. Dit is toe ook so – toe iemand kans sien
om die wors te gaan “haal” kan hy nie die vurk daarin kry nie. Die stuk geofferde
wors word sonder seremonie oor die kant, die veld in geslinger.
“Moenie wharrie nie,” sê Bokkie.
‘n Klomp slope gesnyde biltong en droëwors word opgediep. Dit gaan lekker.
Ek raak naderhand besorg oor Willie, die drywer, en loer agterdeur die kap. Willie
is egter heel OK, bierblik in die hand, met ‘n oop sloop biltong en droëwors by
hom. Nou ja, Willie is OK, maar ek nie heeltemal nie.
“Is Willie veronderstel om so baie bier te drink?” wil ek weet.
“Moenie wharrie nie, Willie kan dit die beste vat. Dis hoekom hy met die
afgaanslag die drywer is.
Die gesels is naderhand op, maar van insluimer onder die kooigoed is min
sprake toe Willie tussen Kestell en Harrismith die eerste keer die gruis langs die
pad slaan. Hierna gebeur dit gereeld, en die Van Reenenspas lê nog voor.
Gelukkig, so lyk dit, het Willie dit in hom om stadig teen Van Reenen af te ry.
Onder, so ‘n entjie weg, is dit warmer en die manne ontdooi uit die komberse uit.
‘n Poging word weer aangewend om die vuur aan die gang te kry. Dis egter
moeilik om bo by te kom as mens hande viervoet is. Die hande viervoetery is nou
weer weens die kombinasie van die bacchus in die lyf en Willie wat baie sukkel
om die lorrie op die pad te hou, want die pad slinger nou al erg.
Is Willie nou waragtag ‘n kameel? So wonder ek. Een wat vog kan inhou. Hy hou
nooit stil nie, en het ook nie ‘n longdrop nie. Ek besluit ek wil nie weet hoe hy die
probleem oorkom nie.
By Estcourt word egter by ‘n vulstasie stilgehou.
Willie sukkel-sukkel na die geriewe toe, en die manne staan en ontdooi en
verdere strategie en bespreek. Uit hierdie gesprek word ek wys dat daar nog nie
tevore tydens die trippie daarin geslaag is om Durban te haal nie. Die bywoning
van wedstryde bestaan net in die feëverhale wat agterna aan die vroue opgedis
word.
“Is dit hoekom julle nie kaartjies bespreek het nie?”
“Ja, dis geldmors, verduidelik Kassie.
“Ons sit dit om in likiede bates,” sê Wollie.
“En die verblyf? Waar het julle dit gereël?”
Ook dit blyk problematies te wees. En keer het hulle selfs so ver as
Pietermaritzburg gevorder, en is toe die geld vir die verblyf in Durban kwyt. Ander
ritte het nog vreemder verloop. Om die tolhekke te ontduik, is ‘n slag
Oliviershoekpas af, maar op ‘n manier het die rit in Ixopo geëindig.
‘n Ander keer is wel Van Reenens af, maar om die tolhekke te systap, is hulle
naby Ladysmith van die hoofpad af, en het op Vryheid beland.
Een keer, meen Wollie, was hulle dalk by Underberg, maar die ander is ook nie
so seker hiervan nie.
Dus is dit heel onlogies om geld op blyplek te mors.
“Maar ons het elke keer ‘n moerse tyd,” sê Wollie, en die ander knik
entoesiasties kop. Die entoesiasme verdwyn egter dadelik, want dis nogal seer
om in hierdie toestand so kop te knik.
“Waar slaap ons vanaand?” vra ek, menende in watter dorp.
“Agter op die trok,” sê Willie.
Ek los maar die pleknaam.
“En as dit reën?”
“Ons het ‘n moerse lekker seil.”
Ek gooi die handdoek in.
Met ‘n seil, longdrop, matrasse, komberse, bier en biltong is ‘n man seker ‘n paar
dae lank goed geholpe. Dis luuks teen sommige dae op die Grens.
Trouens, die biltong uit die Kalahari is heerlik. Die droëwors staan glad nie terug
nie.
“Hoe ver gaan ons nog manne?” wil Willie weet. “Ek voel nie juis baie sterk meer
nie.”
Almal kyk skielik gelyk vir my. “Kan jy lorrie bestuur?”
“Ja, ek kan, maar ek mag nie want ek het nie ‘n liksens daarvoor nie.”
“Tegniese detail,” meen Willie. “Ek het ook net ‘n trekkerliksens.”
“Ek ry net tot ek ‘n goeie uitspanplek kry,” sê ek. Ek mag dalk nie ‘n liksens hê
nie, maar ek meen ek is met ligjare die nugterste.
Nou weet ek ook hoekom die Vrystaters nie ook Sopkoppies is nie. Hulle haal nie
Durban nie.
“Vuil plek, in elk geval,” meen Kassie die aand.
“Simpel plek,” meen Wollie, “niemand verstaan Afrikaans nie.”
Self dink ek aan die slag toe ek betrokke was by die reël van ‘n nasionale
kongres in Bloemfontein. Vir elke provinsie se afgevaardigdes is ‘n kaart opgestel
en gestuur oor hoe om van die N1 by die kongresplek te kom. Maar die
Durbaniete laat weet hulle verstaan nie die kaart nie.
Ek bel vererg, en moet nog Engels probeer pleeg.
Daar is niks fout met die kaart nie. Hulle weet net nie hoe om van Durban by
Bloemfontein te kom nie.
Dan liewer ‘n sopkoppie as so ‘n stiksienige Soutie wat nie eens weet hoe om uit
Natal uit te ry nie.

Hans se tande
Met Agri SA en Vrystaat Landbou se eeufeeste vanjaar, laat dit Herrie aan ‘n
voorval dink omtrent halfpad na hierdie groot geleenthede toe.
Destyds was dit gewoonte dat, sou SALU se jaarkongres die jaar na Durban se
kant toe plaasvind, die Botha-broers van Reitz, oom Freek Coetzee van Villiers
en oom Jan van Rooyen van Harrismith deel van die VLU-span wees.
Maar voor hierdie besondere kongres is oom Jan afgesterf, en word die jong
Hans van Reenen verkies om waar te neem.
Soos gebruiklik ry oom Freek, en onderweg laai hy die Botha-broers op, en hulle
kry koers Harrismith toe, om Hans op te laai voor hulle berg af is
Pietermaritzburg toe, waar die kongres dié jaar plaasvind.
“Onthou, g’n niks poetse nie,” herinner oom Ben Botha nog voor hulle berg af is.
Dié aand deel oom Freek en Hans ‘n kamer in Miessus Gray se losieshuis langs
die perderesiesbaan. Die broers deel soos altyd ‘n kamer.
Destyds het ‘n man nog net half teenspoed met sy tande gehad, dan het die
tandarts plan gemaak, en het maklik met ‘n volledige stel kunsgebit gesit. Die
jong Hans ook, danksy ‘n misverstand in ‘n losgemaal en ‘n tandabses of twee.
Oom Freek, vanselfsprekend, had ook die glas met die laggende tande in op sy
bedkassie.
Die nag kan Hans die versoeking nie weerstaan nie, diep oom Freek se tande op
uit die glas, en laat sy eie in die water afsak. Oom Freek se tande word in ‘n
sakdoek toegedraai en in sy tas versteek. Vroeg die volgende oggend is Hans
vroeg uit die vere, en gaan draf met ‘n paar spilternuwe tekkies deur die bo-dorp.
Terug in die kamer pak die eerste onrustigheid hom beet. Oom Freek én die
tande is skoonveld.
Oom Freek en die ander kry hy in die eetkamer waar hulle lustig ontbyt nuttig, en
hoewel oom Freek tandeloos is, pla dit niks. Sy tandvleise is al so taai, hy eet
selfs roosterbrood met groot gemak. Hans groet so egter sy hand, en probeer so
ongemerk die sagte kossies bestel en eet.
“Nou waar’s jou tande, Freek?”
“My tande wou vanoggend nie lekker sit nie, en terwyl ek so sukkel om dit te laat
pas, breek dit middeldeur. Moes al lankal nuwes kry, toe spoel ek dit maar in die
lewwie af.”
Freek kan nie meer hou nie, en voor hy uitgevang word gaan haal hy oom Freek
se tande uit sy tas.
Net voor die manne wegtrek na hulle Hans op sy plaas afgelaai het, steek oom
Freek sy hand met ‘n vuil doekie uit.
“Hier’s jou tande. Ons het mos gesê geen poetse,” en vort is hulle.
Eers vier jaar later, toe die kongres weer Natal se koers toe was, sou Hans hoor
hoekom die verbod op poetse geplaas is. Die een poets was meer vindingryk as
die ander. Soos toe hulle vir Miesus Gray ‘n nuwe laken moes koop nadat oom
Jan die kongresgangers se skoene in die gang waar hulle skoongemaak moes
word, omgeruil het. Hy was nog besig toe die skoenpoetser omkom, en hy gaan
spring in die bed. Al probleem was dat oom Freek ondertussen sy onderlaken se
onderkant saam met die bo-laken by die kopenent omgevou het. Oom Jan se
skurwe voete is sonder moeite deur die geskifde laken, maar Miesus Gray wou ‘n
nuwe laken hê.

Nog oor Pumba se klappervrees


Die nuwe jaar is ook nie meer so nuut nie, maar in een opsig bly die Herries
goed bewus daarvan dat dit nuwe jaar geword het, en dat daar klappers geskiet
is. Pumba.
Pumba is nog nie weer dieselfde nie. Vir enigiets wat naastenby soos ‘n klapper
klink, blaf sy steeds en draf vervaard deur die huis.
Maar met die aanbreek van die nuwe jaar was dit iets ysliks. Eers het sy die
Herries net met die rustelose geblaf geïrriteer, maar toe spring sy op Herrie en
mev. Herrie se bed.
Aanvanklik probeer sy haar so klein as moontlik tussen Herrie en mev. Herrie se
koppe op die kussings oprol, wat vir ‘n boerboel nie die maklikste is nie.
Maar dan vlieg sy weer op, draf blaf - blaf deur die juis, en bestyg weer die bed.
Toe sy nog by die voetenent opspring, is dit een ding, maar toe neem sy uit die
gang kortpad – oor Herrie se kop. En elke keer oor die bedkassie – op en af, op
en af. Dis toe dat Herrie begin voet neersit, maar maklik gaan dit nie. In die
proses om haar van die bedkassie af te stamp, gaan die radio saam.
‘n Dag of wat later ontdek Herrie sy identiteitsboekie is weg. Dié weet Herrie, was
saam see toe met vakansie, en saam terug. Maar hierna wou die grysstof nie
meer so lekker beelde oproep nie.
Pumba se bedkassie-manewales hou egter aan met spook, en toe Herrie oplaas
‘n vierde keer onder die bedkassie en bed inloer, kry Herrie hom. So geval dat
Herrie hom die vorige keer elke keer dwarsgedraai, en regop, agter ‘n poot gemis
het.
Volgende nuwe jaar kry Pumba kalmeerpille, besluit Mev. Herrie. Ja, Snoetie is
al op hartpille, dus kan Pumba seker maar op senuweepille kom ook. Die mense
se beste vriend. Gelukkig is dit makliker om vir Pumba en selfs Snoetie pille in te
jaag as vir die kat. Dis g’n niks lekker om elke keer wanneer die kat ‘n pil moes
kry, so van die ontsmettingsmiddel rooi gesmeer te word nie.
Maar terug by die klappers. Dit was Pumba se vierde nuwe jaar, en dus het
Herrie die kwaai reaksie nie verwag nie. Die vorige kere was sy baie makker met
die knalle. Ouma SC se jarelange vierbenige metgesel, wyle Tekkies, was iets
anders. By geleentheid is die Herries met ‘n vuurwerkvertoning by die see.
Tekkies het letterlik elke klappende en vlammende ding geskraap. Agter die ding
aan, en as dit klap, pylreguit terug na ouma SC toe. Mens het heel tyd hart in die
hande gou vir wanneer sy vinnig genoeg sou wees om so ‘n ding gevang te kry
voor dit ontplof of vuurstrale uitspoeg of wat dit ook al doen. Herrie meen juis as
Tekkies een van daai vuurpyle sou vang voor dit wegtrek, het sy sonder papiere
Australië toe geëmigreer.

Wanklank by die kanaries


So elke wan en dan gebeur dit dat dit nie die dominee is wat tydens ‘n erediens
die kollig steel nie.
Soos die knapie wat tydens sy suster se jongste aankomeling se doop deur ‘n by
bo-op sy poenskop geklits is:
“Eina! Hoe byt so ‘n f*&^%n mot my!”
Toe die weermag se bekende Kanaries in die Oos-Vrystaat kom besoek aflê,
was dit heel te verstane dat hulle met hul optredes in kerke die kollig sou steel.
Maar in een dorpie was dit nie die Kanaries wat daardie dag die dominee se
donder gesteel het nie.
Hierdie Kanaries was ‘n groep singende soldate, nie ‘n nuwe vliegmasjien van
die Lugmag nie.
Soos gebruiklik was die middelblok van die kerk se voorste paar rye vir die
skoolkoshuis gereserveer. Dis nou al die kinders wie se ouers te ver bly om elke
naweek huis toe te kan gaan. Heel in die voorste ry sit die Graad een seuntjies,
en reg agter hulle die graad een miesiekinders.
Die Kanaries het pas hul ding gedoen, en soos dit nou maar in ‘n stigtelike kerk
gaan, geen applous gekry nie. Maar daar was wél ‘n knalharde geluid, toe een
van die seuntjies heel voor met die wegsterf van die laaste noot ‘n glips kry.
Die seuntjie langs hom vlieg verontwaardig op en betig hom kliphard:
“Sies man, hoe dúrf jy in die Heer se allerheilgste p(*&?!”
Vir ‘n kwartier lank het die dominee, kop tussen die knieë, die lag-rukkings uit
homself probeer wurg voor hy die handdoek ingegooi, en die diens maar
onserimonieel afgelas is.

In die Overberge in...


In die Overberge het ‘n familiebynaam so ‘n paar geslagte aangekom, en in die
proses het die herkoms ‘n ruk verlore gegaan. Saam met die van het die bynaam
“Str&^%temmer” gekom.
‘n Student gaan vors dit toe na en ontdek dat ‘n oor-groot-oupagrootjie in die
hoëre dinge belanggestel het, en by geleentheid ‘n teleskoop uit Engeland laat
kom het. Van al die sterrekykery het die bure hom toe naderhand Piet
Astronomer genoem. Destyds was daar nie baie Engelse in die Overberge in nie,
en het die suiwer Engels so bietjie verafrikaans geraak.
Herrie, weer, stel meer in die klipgoed belang, en het seker al kort duskant ‘n ton
se klipgoeters uit die Oos-Vrystaat by die Nasionale Museum aangedra in die
hoop iets is besonders, soos dat Herrie byvoorbeeld ‘n dinosourus sou ontdek
het. Hier en daar is daar al by die museum kopgekrap, soos klippe wat nie in die
Oos-Vrystaat hoort nie, maar oor die algemeen bly Herrie bekaf.
Een keer was Herrie regtig seker hy het iets besonders gekry, naamlik ‘n
barnsteen met ‘n soort akkedis binne-in. Maar die “barnsteen (soos uit
Jôrrêssiekpark) is toe net ‘n rooi agaat.
Maar die Oos-Vrystaat het met die ysterklip-intrusies deur die sandsteen tóg ‘n
klippeskat, waaronder hier en daar diamante. En waar diamante is, is daar
diamantsmokkelaars, soos Floors Poteflous. Dié bynaam het hy verdien.
Floors se skelmstreke om die polisie te uitoorlê is amper legendaries, maar die
een wat in Herrie se kop vassteek is die slag toe hy geweet het hy loop in ‘n
lokval in.
Die afspraak met die lokvink was in die nag in die veld. Hier word die
vuurhoutjieboksie met diamante aan Floors oorhandig, en voor hy kan betaal,
laat val hy die diamante. Die polisie slaan toe en wil weet waar die diamante is.
“Watter diamante?”
Eers later ontdek hulle Floors het ‘n medepligtige gehad, wat ‘n ent weg met sy
visstok gewag het. Floors is met die hoek aan die punt van die lyn na sy afspraak
toe. Dáár het hy die hoek deur die boksie en deksel gewerk, en die mater het dit
inkatrol.
Hoe Floors uiteindelik gevang is, is ‘n ander verhaal.

Petaljes met die edeles


Die edeles se blouligbendes wat so rof met die publiek tekere gaan, roep by
Herrie sy eie herinneringe oor wedervarings met edeles op.
Herrie is self lief vir voet in die hoek sit, maar weens die alewige moontlikheid dat
dit Herrie gouer bankrot kan maak as normaalweg, is dit maar’n grootliks
onuitgeleefde lekkerte.
By geleentheid moet Herrie vir Piet Badenhorst van Bloemfontein na Wepener
vergesel. Hy het pas minister geword, na Herrie al heelwat met hom as adjunk-
minister te make gehad het.
Hy kom sonder sy privaat sekretaris in die Rosestad aan, en Herrie verander op
slag in chauffeur, privaat sekretaris en lyfwag. So langs die pad begin die
minister vir Herrie aanpor om maar bietjie die voet swaarder in die hoek te laat
rus.
Herie, synde onkundig oor regte en mags en nie mags nie is dit by die edeles
kom, is heel verlig en laat hom nie twee keer nooi nie. Die perdjie loop staan
amper op sy agterpote soos Herrie vet gee, en dit suiker te lekker af Wepener
toe.
Skielik beduie die minister van statiger ry. Op die volgende hoogte sien hy iets
wat hy meen dalk ‘n spietkop kan wees. Toe besef Herrie, nie eens ‘n edele het
die reg om landswette te oortree nie.
Blykbaar nie meer nie, want nou word sommer op ander motoriste geskiet as
hulle die voortsnellende konvooie se spoed durf breek. Uniformdraende lede van
veiligheidsmagte mag blykbaar ook op parkeerplekke vir gestremdes parkeer vir
privaat inkopies, selfs al word ‘n ampsmotor onwettig vir die doel ingespan.
Herrie wonder net hoekom hulle dan so histeries raak as foto’s van hul wettige
optredes geneem word.
Maar dié dag het Minister Piet vir Herrie om ‘n ander rede amper ‘n hartaanval
laat kry. Die besoek was die kersie op die koek van reëlings wat lank tevore
begin het, en het deel uitgemaak van ‘n strategie rondom ‘n verkiesing. Die
toespraak het by die uwe begin,k en is in die afwesigheid destyds van sulke
luukshede soos fakse, om nie van e-pos te praat nie – heen en weer Wepener
toe gery en oral uitgeklaar waar dit uitgeklaar moes word.
Dit was destyds verbode dat ‘n amptenaar ‘n rekenaar by die werk mag gehad
het uit vrees hy durf dalk net sy eie tikwerk doen. Nee, tikwerk moes by die
tikpoel gedoen word, en dit moes met die bodes tikpoel toe en terug gaan.
Die “werkstudie”-mense het dit so bevind, en hulself nogal
“bestursadviesdienste” genoem.
Dit was al erg genoeg as ‘n mens die tikwerkie sonder tikfoute terugkry, maar dit
was ongelukkig die uitsondering. Dit moes dan weer die rondte van Vader Cloete
loop, en word oorgetik (rekenaars was maar traag om ingevoer te word) en die
foute is reg, maar goed wat reg was, is nou verkeerd. So met die derde
probeerslag tik hulle dit dan maar op ‘n woordverwerker en kry mens die stuk na
‘n maand of twee darem reg. Al drie paragrawe.
‘n Toespraak bietjie langer.
Dan moet die toespraak in Pretoria by die Minister se departement se
toespraakkomitee kom. Wanneer dit klaar is, moet dit terug by die uwe kom, en
as dit terug is, moet Herrie mediaverklarings maak, dit getik, en by die media
besorg kry.
Kortom, dis ‘n hengse langdradige en omslagtige proses.
En so in die afsuikery Wepener toe, vra Herrie vir die minister of hy darem
tevrede is met sy toespraak.
Seg hy ewe: Nee, hy hou nie van geskrewe toesprake nie, hy lees maar die
geleentheid en geniet dit om uit sy kop te praat.
Dit het mooipraat gekos om te keer dat Herrie ‘n beroerte en hartaanval gelyk
kry. Minister Piet sê toe hy meen darem die toespraak is in sy soetkysie en hy sal
daarna kyk.
In Wepener praat hy toe uit sy vuis uit, en na hy klaar is maak hy die soetkysie
oop, graaf ‘n paar velle papier uit en rammel gou die toespraak af wat reeds op
die media se rollers was.
Ander kere was Herrie minder gelukkig. Soos met die sensus toe die Premier
van haar toespraak afwyk, en dinge kwytraak soos sy hoop die polisie skiet
sommer plaasaanvallers dood voor hulle hul nog toesluit het. In die koerante wat
nie by die geleentheid was nie, en wat die inligting behoorlik met embargo gekry
het, is toe geplaas wat die premier moes sê. Alles oor die sensus en hoekom dit
so belangrik is.
Maar die res wat daar was? Binne ‘n ommesientjie is die doodskietwensery
internasionale nuus. Al wat oor die sensus deurkom wat veronderstel was om
bekend gestel te word, was “by geleentheid van die bekendstelling van die
sensus.”
En toe gaan ontken die premier nog sy het gesê wat sy gesê het.
Hierdie premier het meer keer dinge gesê voor sy gedink het. Toe oud-president
Mbeki uit die bloute die sluiting van die kommando’s aankondig, moes die
premiers met slim praatjies die brouwerk probeer regverdig. Hierdie ene laat wiel
toe met kommando’s wat “struikrowersneste” sou wees.
Kort hierna moet die uwe ‘n landbouvergadering in Herriesmith, ekskuus,
Harrismith, gaan toespreek, en dié word by die kommandokantore gehou. Maar
Herrie weet nie waar dit is nie, en ry op die bordjies af met die “i”’s op. By die
misipaal se inligtingskantoor is twee jonge dames wat nie Afrikaans verstaan nie,
en ook nog nooit van ‘n ding soos die kommandokantoor gehoor het nie. Herrie
het nog so gewonder of my moes vra na die “bandits’ nest,” maar vra toe maar
buite, en die eerste een vir wie Herrie vra beduie die pad kommandokantore toe
haarfyn.
Mens wat nie vooraf hul toesprake lees nie kan ook probleme veroorsaak. Soos
die een LUK wat op Kroonstad moes praat. Hy was in Pretoria, en ek ontmoet
hom toe op pad terug in Kroonstad, en gee die toespraak.
Hy het die toespraak geniet, maar ook sekere aannames gemaak oor wat kom,
en dan gesê wat hy meen moet kom, en dan kort daarna lees hy die
teenoorgestelde. Die feit dat hy ‘n paar happe ingehad het en by geleentheid
amper agter die kateder uitgeval het, het dalk iets daarmee te make gehad.
By geleentheid bied Herrie ‘n konferensie in die Norman Doubelsaal in Heidedal
aan. Herrie bespreek lank genoeg voor die tyd ‘n bakkie by die staatsgarage om
stoele en pante aan te ry, en gaan die middag voor die tyd staatsgarage toe.
Chaos. Die bakkie is bespreek, maar daar is nie so iets beskikbaar nie. Die
grootbaas sit in die Pinksterbiduur, en goete soos selfone het nog nie bestaan
nie.
Met ‘n groot gesukkel is die baas daar. Herrie is naderhand nukkerig, want as
hulle nie ‘n bakkie het nie, moet hulle dringend een deur die nag van
Johannesburg laat kom, want die volgende dag praat die minister, en dan moet
die saal klaar wees.
Oplaas kry Herrie ‘n lorrie waarvoor hy natuurlik nie ‘n rybewys het nie, maar
nood is nood.
Die minister was al besig om die toespraak wat Herrie geskryf het te les toe is
Herrie nog agter die gordyne besig om uit sy oorpak te wikkel en in sy pak klere
in. Tussenin het iemand darem gehelp om ou ds. Gordon, wat ingestem het om
die opening met Skriflesing en gebed te doen, uit sy tuin te gaan haal waar hy
besig was om nat te lei. Skoon van die geleentheid vergeet.
Gelukkig was al die toesprake wat Herrie deur die jaar vir ministers, adjunk-
ministers, administrateurs, DG’s en LUK’s geskryf het so vol drama nie.
En nee, Herrie was nog nooit ‘n amptelike toespraakskrywer nie.
Die bokser en die boetebessie
Die leserspubliek spot dikwels en sê die joernaliste se slagspreuk is:
"Moet nooit die waarheid in die pad van 'n goeie storie laat staan nie."
Tog is joernalisme een van daardie beroepe wat moet doodseker maak dat hul
feite 100% reg is. Die grappie lui immers dat 'n dokter se foute begrawe word, 'n
advokaat se foute word opgehang, maar 'n joernalis se foute word gepubliseer.
En wat op skrif staan, kan 'n mens baie maklik in die sop laat beland. Bowendien
het die drikkersdywil die vermoë om 'n joernalis te laat bloos.
Daarom was dit lank praktyk om 'n groentjie-joernalis sy spore in die landdroshof
te laat verdien. 'n Effense verkeerdskrywery, en 'n man kan met 'n kriminele
rekord opgesaal sit. In 'n stadium is gesê min redakteurs het nie kriminele
rekords nie - minagting van die hof omdat hulle die identiteit van die blapsmaker
beskerm. Dit is veral waar die opskrifskrywer, wat nie die berigskrywer is nie, 'n
blaps gemaak het.
Hofverslaggewing kan dodelik wees, veral in 'n groot hofgebou waar die
opposisie voorgetrek word. Destyds was dit so in die Bloemfonteinse landdroshof
waar oom Tallies van die Friend maar altoos die staatsaanklaers en landdroste
se gunsteling was. Die Volksblad se joernalis het een van drie opsies gehad - of
oom Tallies met valkoog dophou sodat hy nie ongemerk 'n saak kan opdoen nie;
of eenvoudig voetpatrollie loop van hof na hof, stelle trappe op en af, tot 'n mens
se tong doer hang, oor vier verdiepings en lang gange, en by elke hof koekeloer
tot 'n mens 'n stewige saak raakloop; of 'n alternatiewe inligtingsbron opbou.
Maak dus vriende met die ordonnanse, tolke en proefbeamptes.
Die proefbeamptes het egter ook hul pond vleis ge-eis - as 'n mens 'n saak
raakloop waar die joernalis net die vaagste suspisie het dat 'n proefbeampte
moet ingryp, moet die proefbeampte laat weet word. Dit het die joernalis weer in
onguns by die staatsaanklaer gebring, wie se spoed gebreek word in die vinnige
afhandeling van sake. Die ordonnanse en tolke was makliker. Soos die een wat
eendag grootoog vertel van hoe hy die mooiste meisie se vingerafdrukke
geneem het. Dit blyk toe sy en haar kêrel, 'n mediese dokter, is die vorige
middag die hof behoorlik ingesmokkel nadat die dokter met kokaïen betrap is.
Die meisie het dagga by haar gehad, vandaar dat haar vingerafdrukke geneem
is.
Die beste was, trek 'n stywe rek, 'n gordel en kruisbande aan. Veral as oom
Tallies skielik lus kry om nie die middag te kom nie, omdat daar “niks” die moeite
werd die middag is nie. Ruik lont, en gaan soek hom, want hy is weer 'n gunsie
bewys. En so is die snaaksste hofsaak van my loopbaan opgespoor.
Die beskuldigde is die bekende Reid-Daly, aanvoerder van die destydse Selous
Scouts in oorle' Rhodesië, se broer. Al is dit net die broer, is hy self kleurryk - het
Rhodesiese kleure in boks en bofbal gekry. Hy word van aanranding met die
opset om ernstig te beseer aangekla, en van crimen injuria.
Die hofverskyning spruit voort uit 'n insident voor 'n hotel in Bloemfontein, waarby
die groot man en 'n verbete boetebessie betrokke was. Nee, hy het haar nie 'n
boksles gegee nie. Haar omgery, na sy glo nie geluister het toe hy vir haar gesê
het sy moet *&^of voor sy kar nie. Wat die tweede klag verduidelik.
Hy verduidelik hy het in die hotel in Maitlandstraat (wat nie meer bestaan nie)
tuisgegaan. Toe hy die volgende oggend sy bagasie wou oplaai, is daar nie
parkeerplek voor die hotel nie. Net op 'n geel streep. En as hy daar wil stilhou,
beduie die verkeersdame (hy het 'n benaming gebruik wat meer akkuraat met
metermerrie vertaal sou kon word) dat hy sy ry moet kry. Dan ry hy om die blok,
en kry dieselfde situasie. Na die hoeveelste keer om die blok, hou hy ten spyte
van die dame se objeksies op die geel streep stil en laai sy bagasie in. Toe hy
weer wil ry, staan sy reg voor die kar en skryf vir hom 'n kaartjie.
En hy het toe g'n niks vir haar sulke lelike dinge gesê nie. Hy het vir haar gesê
"buck up," glo 'n ou sêding in die Rhodesiese weermag. Die landdros, Fred van
Noordwyk en broer van Bethlehem se bekende boer, wyle Harry van Noordwyk,
wou weet of hy seker is hy het "buck up" en nie "%^$of" gesê nie. Nee, hy is
doodseker.
Dus word die staatsgetuies laat kom. Eers die verkeersdame self. Ja nee, sy het
gehoor wat sy gehoor het. Toe haar vroulike kollega. Nee, sy het dit nou nie
gehoor nie. Al wat sy weet, is dat haar kollega na sy omgery is, wou weet hoe
mens "*&^of" spel. Toe 'n winkelier wat die petalje dopgehou het. Nee, hy het nie
gehoor hoe die beskuldigde *&^of sê nie, net hoe die klaer dit aan die
beskuldigde toegesnou het! En net daar sink die staat se saak oor die crimen
injuria. As twee mekaar vloek, kanselleer dit mekaar se klagtes uit. Met
aanranding is dit egter 'n perd (of is dit hier 'n merrie?) van 'n ander kleur - twee
ouens kan mekaar dik tik, en altwee skuldig bevind word.
Omdat dit al die hoeveelste keer was wat die Reid-Daly vir die hofsaak moes
Bloemfontein toe kom, word hy net gewaarsku en ontslaan. Ook heelwat
provokasie gewees, meen die landdros - as 'n man darem nou elke keer as hy
om die blok ry om parkeerplek te soek net om bagasie op te laai, te moet hoor hy
moet &^%of.
Reid-Daly verneem na hoekom sy vingerafdrukke geneem word. Na die
verduideliking: "Oh, so next time I do not *&^of they'l nail me?"

Swynerige dieremaniere
Min gesinne waar daar kinders is, kan nie rits vreemde dieremaniere oproep nie.
Die Herries is geen uitsondering nie. Onder die minder vreemdes by die minder
vreemdes by die Herries was konyne. Poging nommer een was ‘n reuse
vleiskonyn wat Herrie by ‘n konynboerdery in Botshabelo jammer gekry het.
Geskik om te eet mag hy gewees het, maar vir troeteldier was hy te wild en het
op slag weggeloop.
Die hartseer is met ‘n pikswart klein konyntjie probeer, maar ook hy het omtrent
dadelik weggeloop. Nommer drie het Groot Herrie op die boeremark raakgeloop
en was hondmak. So mak dat Klein Herrie die hasie in sy opblaasswembadjie
laat swem het. Die hasie is toe dieselfde dag begrawe. Groot Herrie het
stamoorlog teen Klein Herrie verklaar.
Maar die vreemdste was tussen al die diere deur die optrede van Chien, die
Herries se destydse kruising tussen ‘n Rottweiler en Duitse herdershond. Die
Herries kon haar basies leer om enigiets nié te vang nie, konyne inkluis. Toe sy
aanhou in die konynhok inbreek, blyk dit sy is agter die konynkos aan. Ook toe
die Herries twee makoue gehad het. Eers twee, toe skielik baie, en daarna baie
makoueiers, het Chien die makoue laat begaan. Sy kon net die een makouwyfie
nie verdra nie.
Nog ‘n minder gelukkige samesyn was die troetelvarkies en die perd op
Rietfontein, oupa Nic se ander plaas. Die mense wat in die opstal gebly het, het
naamlik twee van die klein troetelvarkies aangehou, en ‘n perd.
Tipies ot was die vretery nie altyd so vreedsaam nie. Die otjies het hulle verbeel
hulle kon saam met alles op die plaas vreet, tot van die bulle se hooi met ureum.
Maar die bulle het ‘n klomp pense en dus is daar goed wat ‘n bul kan vreet wat ‘n
swyn na die hiernamaals kan help. Hulle het dit egter oorleef.
So gaan vreet die een klein otjie tussen die voorpote van die perd – daai perd
wat g’n tyd had vir swyne. En die otjie raak aan die perd!
Die perd gryp die varkie aan sy kraag, tel die varkie op wat soos ‘n maar vark
aan’t skree gaan, en skud hom verwoed.
Die otjie trek soos ‘n skreeuende missiel deur die lug, en beland met sy bas op
gras, nie ver van daai voorpote nie. ‘n Oi, oi later is hy egter weer ongesteurd
aan’t weie.

Lawwe Lulu
Jare gelede het ‘n omgekrapte motoris van die platteland hom in ‘n moeilike
Bloemfonteinse boetebessie vasgeloop. Die man moes sy vrou iewers oplaai, en
omdat daar nie parkering was nie, is afgespreek hy kry haar presies drie-uur op
‘n plek, hy sal dubbelparkeer, en sy moet opspring.
Op die kop drie-uur dubbelparkeer die man. Sy vrou was egter nie daar nie – ‘n
boetebessie wel, en sy beduie hy moet ry. Hy probeer nog beduie op sy horlosie
en met sy mond iets vorm van “my vrou.”
Maar die boetebessie vat-vat na haar boekie, en die man ry maar om die blok.
Om die blok te ry synde ook nie meer in Bloemfontein te wees wat dit was nie
met die eenrigtingstrate en so aan. Dus is hy eers heelwat later terug op die
toneel, maar sy vrou steeds nie. Die boetebessie wag hom in, en weer is dit ‘n
gebeduie, en toe is dit weer die rondte van Vader Cloete.
En weer is vroulief obsent, en weer beduie die boetebessie. Die man van die
platteland voel egter genoeg is genoeg, en hy dubbelparkeer. ‘n Verwoede
boetebessie storm nader, notaboekie in die hand. Die man probeer beduie, maar
sy skryf. Hy beduie, en sy skryf.
Omtrent klaargeskryf kom vroulief aan, pakkies tot teen die destydse
telefoondrade. In plaas van blaam vat, swyg sy en pak self die pakkies agterin
die bakkie se kappie, wat die boetebessie kans gee om klaar te skryf, en die
kaartjie met ‘n vinnige handbeweging in die woedende plattelander se hand te
druk. Sy draai op haar hak om en stap weg.
Dis toe dat die man van die platteland oorkook en agter haar aanskree: “Haai jy,
wat vra jy om in ‘n drieslaapkamerhuis te spook?!”
Nou weet Herrie met vroueregte en so aan moes oud-pres. Mbeki baie vroue in
sy kabinet aanstel. Tot Mbeki se eer moet Herrie ook byvoeg ‘n dwalende oog
speel in die keuse van wie in die kabinet moet dien geen rol nie. Die meeste van
die ministers, vroue inkluis, het agter in die tou gestaan toe “looks” uitgedeel is.
Van die vroue sal met gemak vrou-alleen ‘n goeie spookjoppie in selfs die
Buckinghampaleis kan verrig.
Daar is ‘n heel paar vroulike ministers wat Herrie bitter graag nié snags in sy huis
sal wil raakloop nie.
Vir Lawwe Lulu sal Herrie juis wil vra: Wat sal jy vra om in ‘n huis te boeboe?

Bieliemieliefees
Kort op Paul Roux se Sandsteenfees volg Reitz se Bieliemielie-fees.
Ja, waar Herrie dit met Paul Roux gehad het oor die kroning van feeskoninginne,
sien Herrie by Reitz word ‘n Mnr. Mieliebaard aangewys.
Wat is fout met ‘n Mnr. Bieliemielie?
Dís nou ‘n titel om baie op trots te wees!
Maar eintlik het Herrie dit vandag oor iets gans anders. Die dae toe vroue nog
hoede gedra het.
Desdoeroejare gelede gaan kuier oom Hans Skuinskyk se vrou by haar suster op
Platboomfontein. As oom Hans kon huishou sou hy nie omgegee het dat die
tante lank wegbly nie, want die tante kon maar moeilik wees. Maar kort voor lank
is daar nie meer skoon klere, breekware of heel kouse in die huis nie. Oom Hans
het ook vreeslik maer beginne word, sodat selfs die dominee begin vra het wat
skort.
Dus, die dag toe die tante op Bethlehem se stasie moet aankom is oom Hans al
vroeg weg met die treppie dorp toe. Die trein stoom die stasie in, en nog voordat
dit tot stilstand is, het oom Hans al langs die trein af gedraf tot hy die tante se
kompartement gekry het, gereed om die bagasie by die venster aan te vat.
Met die trein mooi tot stilstand, beginne die tante haar hoed opsit. Dis nie
sommer vir opsit nie, want sy het haar hare laat doen voor sy by sus vort is. Dit is
gemeet en pas voor die spieël en vasstekery met haarnaalde.
Toe word die tasse van die rak afgehaal. Net die ronde hoedetasse was al ‘n
stuk of vier. Net toe sy die eerste deur die venster wil aangee, begin die trein
wegtrek.
By Afrikaskop is die tante toe af, en met die volgende trein terug Bethlehem toe.
In Bethlehem word die hoed-opsittery herhaal, met die gevolg die tante is vort
Meets toe. Hier haal sy in die kondukteurswa die goederetrein Bethlehem toe.
Oom Hans sleep dié keer die tante self by die trein uit, en die kondukteur help
tasse uitpak.
Toe die trein wegtrek, draf ‘n woedende oom Hans ‘n ent saam en beduie vuis in
die lug: “Engelsman, ek sal jou nog kry!”

Mensdom vanjaar ‘n eeu gelede byna van Jules Verne se beste werk beroof
Kan dit weer gebeur?
Vanjaar, presies ‘n 100 jaar gelede, het ‘n boek onder die naam van Jules Verne
verskyn.
Die boek, Les naufragés du Jonathan, (Die oorlewendes van die Jonathan) het
vier jaar na die dood van Verne verskyn, en was ‘n somber, swartgallige
beskouing van die samelewing van sy tyd. Die manuskrip is reeds in 1897
neergepen, en die somberheid is toegeskryf aan Verne se goemoedstoestand
nader aan sy dood in 1905.
Hierdie boek het gou in die vergetelheid geraak, en dit het in 1977 eers duidelik
geword hoekom. Dit was skynbaar reeds bekend dat Verne se seun, Michel, die
oorspronklike manuskrip verwerk het, maar in 1977 het Piero Gondolo della Riva
van Venesië die oorspronklike manuskrip, opgespoor, en die boek het onder sy
oorspronklike titel, Magellania, verskyn. ‘n Engelse vertaling het eers in 2002 die
lig gesien. Toe eers het dit duidelik geword in welke mate Michel die boek
herskryf, en eintlik verongeluk het.
Wat Michel beoog het is nie duidelik nie. Meestal word aanvaar dat Magellania
so dramaties van Verne se ander werke verskil het, dat die uitgewer gemeen het
Verne se aanhangers sou hierdie andersheid nie aanvaar nie.
Met die verskyning van die oorspronklike Magellania is egter ‘n nuwe gehalte-
dinamika aan Verne se oeuvre toegevoeg, iets waarvan sy seun sy nalatenskap
byna beroof het.
Selfs vandag nog beperk inligtingstukke oor Verne hom dikwels tot die vader van
wetenskapsfiksie. Verne was egter geen fiksieskrywer in die egte sin van die
woord nie. Talle van die tuie en instrumente wat hy in sy boeke beskryf het, het
later werklikheid geword, en van die uitvinders het ook erkenning aan Verne vir
hul inspirasie gegee. Onder Verne se “voortydige” beskrywings tel duikbote,
helikopters, lugreëlings en rolprente.
Magellania speel hom egter op ‘n heel ander vlak af – ‘n kliniese ontleding van
gemeenskapslewe, filosofie, godsdiens en die mens se posisie in die natuur. As
basis gebruik hy die lot van ‘n groep skipbreukelinge wie se skip in die Straat van
Magellaan vergaan het. Die oorlewendes besluit om ‘n kolonie te stig. Hul wel en
weë kruis met dié van ‘n persoon van onbekende herkoms, Kaw-djer, wat
voorheen net ingestel was op sy eie en die inboorlinge se behoeftes. Sy eie
herkoms is in misterie gehul, en sy lewensuitkyk, “Geen God en geen meester
nie” verklap die filosofiese diepte waarin die boek delf. Kaw-djer, met sy
uitgebreide kennis, help die koloniste om te vestig, maar toe die gemeenskap
uitmekaar begin val, is hy teensinnig om as leier oor te neem.
Kaw-djer, wie se innerlike gemoed en gedagtegang eerder as die omgewing en
gebeure die verhaal oorheers, is ‘n passiewe anargis en hy glo vas in die vryheid
van die menslike gees.
Hier, aan die suidpunt van Amerika, waar Chili en Argentinië met mekaar
oorhoeks is oor waar die grens tussen hulle loop, vind Kaw-djer die
niemandsland waar hy sy lewensuitkyk ongesteurd kan uitleef. Met die stranding
van die Jonathan, wie se skipbreukelinge eintlik na Afrika onderweg was, word
sy opvattings deur praktiese realiteite uitgedaag.
Magellania was egter nie die enigste werk van Verne wat geykte opvattings van
die skrywer uitgedaag het nie. Op grond van sy werk, Mathias Sandorf, wat oor
‘n Hongaarse vryheidsvegter handel, is hy soms ook as rewolusionêr beskou.
Sandorf, wat as verdediger van die verdrukte volksmassa intree, is reeds ‘n
voorloper van Kaw-Djer wat dieper na die lewe kyk as die geykte opvattings van
sy tyd.
Dit is egter moeilik om te bepaal of Verne Kaw-Djer se lewensbeskouing
futuristies op vandag se samelewing sou wou projekteer, soos hy met sy
tegnologiese “uitvindings” gedoen het. Hy het immers vir Kaw-Djer ‘n afgeleë
deel van die wêreld gekies wat slegs deur beperkte buite-insette aangetas is.
‘n Meer sinvolle vraag sou moontlik wees hoeveel armer die wêreld is omdat
nuwe insigte nie in die gemeenskap opgeneem word nie. Skrywers, by uitstek, is
aan die beoordeling van uitgewers uitgelewer of hul pennevrug die gemeenskap
sal haal. Vandag bied die internet wel “aflaaiplek” en potensieel ‘n wêreldgehoor,
maar dit is steeds die gedrukte media wat die denkraamwerk bepaal. By die
onlangse SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesvieringe is
byvoorbeeld (so ver bekend) geen kategorie geskep vir bydraes tot Afrikaans of
die wetenskap wat op die internet geplaas is nie. Daar is dus geen aanmoediging
of inspirasie vir internetskrywers om by standaard-taalgebruik en spelling te bly
nie, en die spelling is gewoonlik ook beroerd.
Die werklike vraag is egter: Bepaal dit wat die gemeenskap verwag – dit wat
binne sy gemaksone val, nie dit waaraan die denkende gemeenskap blootgestel
word nie? As ‘n skrywer soos Verne amper-amper van sy diepgang en
veelsydigheid beroof kon word, hoeveel ander gevalle is daar nie?
Selfs die gevestigde wêreld van die evolusioniste, insluitend die teïstiese
evolusioniste, geomorfoloë en sterrekundiges word deurlopend deur jong aarde
kreasioniste bygedam.
Is dit werklik in die Akademie se belang dat gemeenskappe moet ervaar dat die
sepie-kultuur ‘n groter erkenning verdien as diepgang buite die gedrukte en
uitgesaaide wêreld bloot omdat dit deur vooropgesette idees na die internet
“verban” is?
Gaan daar oor bykans ‘n eeu ‘n Piero Gondolo della Riva wees wat daarin gaan
slaag om kosbaarhede van skrywers op die internet gaan opspoor en deel van
die hoofstroom-raamwerk neem? Gaan daar van gevestigde en selfs bekroonde
skrywers so werke na vore kom wat die letterkunde gaan verryk, maar internet
toe verban is omdat dit anders as hul geykte patroon was?

Herrie se kerrie: Genomineerdes vir 2009 se besondere bydraes


Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer Herrie die name bekend maak van
mense wat vir besondere eerbewyse vir hul bydraes in 2009 genomineer is.
Soos gebruiklik begin Herrie by die Poskar (Politieke Oskar) –nominasies.
Heel bo-an die lys is Julius Malema wat deur pres. Jacob Zuma genomineer is vir
sy politieke insigte, volwasse leierskap en verantwoordelikheidsin, sodat Zuma
hom ook sommer as kroonprins gesalf het. Malema is deur prof. Jonathan
Jansen gesekondeer weens sy besondere intelligensie, en ‘n ere-professoraat in
drama- en toneelkunde aangebied.
Volgende op die lys is pres. Jacob Zuma, genomineer deur Julius Malema vir sy
briljante interpretasie van grondwetlike sake en aanstellings in die juridiese veld.
Dié nominasie is gesekondeer deur regter John Hlope.
Die Vrystaatse Premier, Ace Magashule, kom ook aan die beurt weens die
uitsonderlike vermoë om munisipale diensleweringsprobleme in sy provinsie so
vinnig op te los, onlusmakers is nog besig om klippe te gooi dan is daar nie meer
munisipale diensleweringsprobleme nie, aldus Magashule. Hy is genomineer
deur mnr. Neels van Rooyen, voorsitter van die Vrystaatse Skoor, en
gesekondeer deur mnr. Thabo Manyoni, LUR vir Polisie en Paaie, wie se kop
nog onlangs luidens berigte op die spel was. Hy het egter daarin geslaag om die
slaggatprobleme sonder ‘n enkele tenderprobleem opgelos te kry.
Die genomineerdes vir die Umbungeisj-medlaje (medalje van die olifant met die
baie seer tand) is eerstens mnr. Leonard Chuene, genomineer deur mnr.
Buthana Komphela en gesekondeer deur mnr. Hendrik Moganyetsi. Chuene
word genomineer weens die buitengewone manier waarop hy Suid-Afrika in die
buiteland bekend gestel het en gesorg het dat die oë van die wêreld op die
vooraand van die 2010-wêreldsokkerbeker op die land vasgevang sal bly. Onder
die lang lys vernaamste mededingers tel verskeie burgemeesters en oud-
burgemeesters, soos dr. Gwen, Pappie en sy Granny, en dr. Tjeers.
Die gesogte Eersteklas-soustreinkaartjie gaan aan die uitgetrede Openbare
Beskermer, Lawrence Mushwana, wat na hy ‘n R7 miljoen goue handdruk gekry
het, weer as voorsitter van die Menseregtekommissie aangestel is. Wat sy
prestasie des te merkwaardiger maak is die hofsake wat hy as Openbare
Beskermer verloor het, soos die Staatsteatersaak en toe die grote, die Petro SA-
saak. Hy word egter sterk geopponeer deur kandidate uit verskeie
owerheidsfere, en ‘n Ligte opskudding, as Eskom weer krag vir ligte het, is nie
uitgesluit nie.
‘n Laat-inskrywing vir die “Vriende van die kommersiële Landbou”-medalje is
adjunk-president Kgalema Motlanthe, vir sy ruim denke oor wie vir plaasmoorde
verantwoordelik is. Hy is deur Lawwe Lulu genomineer, en deur pres. Robert
Mugabe gesekondeer.
Die Orde van die Flitsende Blou Ligte gaan onbestrede aan mnr. Julius Malema.
Dit word betwyfel of ‘n burgerlike ooit sy prestasie op die bangheidskaal sal
oortref, wat tot R300 000 per maand se staatsbeskerming aanleiding gee.
Die Snorre-trofee vir vrot keurderwerk gaan aan die Springbokafrigter, Peter de
Villiers. Tydens sy toekenning sal WP Nel en Coenie Oosthuizen ‘n duet aanhef
getiteld, Skoenmaker, hou jou by jou afrigtingslees.
Die Groen Medalje vir nie-rassigheid word gedeel deur die trippel-M-koor,
Malema, Manyi en Maroga. Dit is nie bekend of dit waar is dat hulle op ‘n donker
groen medalje aangedring het nie.

Waar kry Zuma Beach in Kalifornië sy naam vandaan?


Herman Toerien
Suid-Afrika is nie al land wat ‘n bekende Zuma het nie. ‘n Deel van die bekende
Malibu-kus van Kalifornië heet Zuma Beach, waar die reeks Bay Watch ook
verfilm is.
Zuma Beach is beslis nie na pres. Jacob Zuma vernoem nie, maar om vas te stel
waar die naam vandaan kom het selfs met die hulp van Google nie te maklik
gekom nie. Allerlei vreemde name en verduidelikings het opgeduik, waaronder ‘n
mistieke heldefiguur met die naam Montezuma, wat in Suidwes-Kalifornië sou
gewoon het. Dit is ook dieselfde naam as wat verskeie Asteekse keisers gedra
het. Hierdie naam hou onder andere verband met iets wat beteken soos: “Die
heerser kyk kwaad toe.”
Mog dit maar wees hoe pres. Zuma na korrupsie kyk!
Hiermee is toe ook nie te ver van die waarheid af gekom nie – die naam het
inderdaad sy herkoms in die voor-Europese Indiaanse kultuur.
Dis eers toe opgemerk word dat daar ‘n naasliggende canyon met die naam
Zuma Canyon is, dat die soektog koers gekry het. Dié canyon is bekend vir sy
wye verskeidenheid plant- en dierelewe.
Die Indiaanse stam wat reeds sowat 10 000 jaar in die omgewing gewoon het,
wat die Amerikaanse naam Chumash dra, se woord vir “oorvloed” het die woord
“zuma” opgelewer.
Die Chumash, blyk dit, is op hul beurt weer ‘n interessante groep om te
bestudeer. Hul getalle was vermoedelik in die orde van 11 000 tot 15 000 toe
hulle met die eerste Spaanse ontdekkingsreisigers te make gekry het, maar
blootstelling aan siektes veral na die Spaanjaarde nedersettings begin bou het,
het hul getalle naderhand tot ongeveer 200 uitgedun.
Hoewel daar nie meer ‘n enkele Chumash is wat die oorspronklike taal praat nie,
is heelwat rekords hiervan opgeteken.
Die Chumas, as deel van die sogenaamde mandjievervaardigingskultuur, was
ook vir hul mandjies bekend, maar so ook vir pottebakkerswerk, en meer
interessant, vir die maak van bote van plank. Hiermee was hulle een van min
Indiaanse stamme wat seevarend was, en van hul stamgenote het op verskeie
eilande in die see gewoon. So vernuftig was hulle met hul seevaart en
bootbouwerk, dat sommige argeoloë steeds volhou dat hulle vroeë kontak met
die Polinesiërs gehad het, en ‘n verwantskap in woorde word gesoek, en soms
selfs vermoed. Die gedagte word egter nie wyd aangehang nie aangesien die
herkoms van die Chumash se bote tot minstens ‘n duisend jaar voor die
vermeende kontak met die Polinesiërs teruggevoer kan word.

Herrie se kerrie: Soek die silwer randjie


Dit is amper Kersfees, of soos Herrie verkies om dit te noem, die Christusfees,
maar van ‘n gees van vrede op aarde en in die mens ‘n welbehae is daar by die
bewoners van die ondermaanse hier te lande nog weinig tekens.
Al is die landswye resessie amptelik verby, wat tradisioneel beteken dat die
gestroopte Vrystaat seker oor so drie tot ses maande ook uit die resessie sal
beweeg.
Herrie ken ‘n paar mense wat nie meer die koerant koop nie, of selfs nie eens
gratis koerante meer wil neem nie, want “alles is negatief.” Herrie is nou nie ‘n
gereelde besoeker in 7de Laan nie, maar kan nie dink dat dit daar al te jollie
gaan met al Jaansberg se misdaad nie. Tog is dit waarheen mense die
werklikheid ontsnap.
Maar Herrie het regtig die laaste ruk hard gedink om ‘n lysie van die positiewe te
maak. Aanvanklik kon Herrie nie veel verder kom met positiewe dinge nie soos
oom Bran de Wijn wat in sy noppies is dat ys in hierdie hitte sy drankie koud hou,
dat Suid-Afrika se sportbeeld mooi in stand gehou word deur oud-Suid-Afrikaners
wat so goed vir die Engelse krieketspan vaar, dat juts Sjlôpie nie die pyp gerook
het nie, dat Julius Malema nou so – aldus Kovsies se rektor – slim geword het...
En so met al die kafpratery het Herrie se worsie op die kole houtskool verbrand,
maar gelukkig hou Herrie van houtskool.
Herrie weet egter daar is nog ‘n paar silwer randjies, en die belangrikste is dat
ons land nog godsdiensvryheid geniet. Ons kan dus die Christusfees onbevange
vier soos dit hoort. Die donker wolk is egter dat ons die Christusfees self sloop
en daarvan “happy holidays” maak, ons onsself in bankrotskap in koop, ‘n klomp
mense hul vuurwaens met Bachus se hulp om lamppale gaan vou, en Pumba
met die klapperskietery in bevangenheid vrees injaag sodat sy, yslike boerboel,
pens en pootjies al bibberend tussen Herrie en mev. Herrie in die katelkooi kom
inkruip.
Maar dan, eintlik moet elke dag ‘n Christusfees wees, en ‘n versoeningsdag, en
‘n vrouedag, en ‘n dag wat kinders nie mishandel of verwaarloos word nie, elke
dag ‘n dag om aan die mense met gestremdhede en hongerte te dink...

Herrie se kerrie: Ons blaps so lekker want ons gaps so lekker


Die huidige regering het nie korrupsie uitgevind nie. Nog nooit nie.
Net vervolmaak.
Nee, dis nie Herrie wat so sê nie, dis die regering wat self so sê. Nou nie in
soveel woorde nie, maar dit word darem nou erken dat dinge nou heeltemal
hande uit geruk het.
Neem nou maar die parlementêre vliegtuigkaartjies. Dis ‘n ou ding, en Herrie ken
ook een wat destyds gevang is persoonlik. Hy is later tronk toe, maar oor iets
anders.
Ai, en helikopterritte elke Vrydag na ‘n sekere missieltoetsterrein naby
Waenhuiskrans (waar die minister heel toevallig ‘n strandhuis gehad het), en
Maandae weer terug parlement toe met die helikopter. Nee, dit was ook nie
Herrie wat so briljant was om dit uit te pluis nie, maar die inwoners in die
stranddorpe waaroor die heli gevlieg het, soos Hermanus, Onrus, Kleinmond,
Gordonsbaai...”Daar gaan die minister weer vir sy naweeklikse inspeksie...”
Nou wie kan dan nou die eerste klip gooi as ‘n huidige minister oor die Kerstyd in
‘n Durbanse strandfront-hotel tuisgaan, en ‘n paar besoeke aan plaaslike
polisiestasies bring? Al kon ‘n mens nou met daai hotelrekening die hele
missieltoetsterrein koop.
Ai, en ‘n minister se eersteministerplanne wat in die slag bly toe dit kort voor die
werping van die lot aan die lig kom hoe heldersiende dié minister was om te weet
presies waar damme gebou, en besproeiingsplase uitgelê gaan word. Koop dan
droë land, en verkoop besproeiingsgronde. Snaaks, mens sou dink so ‘n
heldersiende minister sou ‘n gawe eerste minister kon wees.
Toe Herrie op skool was, was hy self taamlik heldersiende, soos om soos
klokslag te weet wanneer die administrateur siek is, en een van die LUK’s as
administrateur waarneem. Want dan het sy telgies met daai lang, slap kar, OVS
1, skool toe gekom, chauffeur en al.
Ai, en daai bekaf uitdrukkings toe ‘n paar LUK’s, senior amptenare, ‘n horde
vroue en ‘n hele klomp vriende,familie en etlike belangstellendes in Bloemfontein
van die êrrie afklim, en die SAUK (ja, toe was dit nog die SAUK) se TV-kameras
wag hulle in. Dié lywige afvaardiging sonder ‘n enkele kundige het oorsee gaan
besluit watter skandeerder die provinsie moet aankoop.
Natuurlik was die proffie toe al hoeka oorsee gewees om die skandeerder te
gaan kies – die afvaardiging kon slegs die kleur gaan uitsoek. Fred Schnetler,
destydse skrywer van Volksblad se Stop van Myne en deesdae saliger, het toe ‘n
ellelange stuk geskryf oor hoe dit gebeur het dat die verbypad om Senekal 15
jaar geneem het om goedgekeur te raak. Van die afvaardigings wat eers oorsee
moes gaan om ondersoek in te stel na die kleur van koppies.
Daardie verbypad, terloops, is nou nog amper 30 jaar later steeds nie gebou nie.
Nou wie kan dan ‘n vinger wys na ‘n hedendaagse brandarm munisipaliteit se
toerismebevorderingsekskurie van ‘n half miljoen rand? Peanuts!
Ook voor die nuwe bedeling vertel ‘n hoofdirekteur van die TPA van ‘n sekere
burgemeester wat ‘n kontrak met ‘n ontwikkelaar gesluit het. Die maatskappy sou
hom naamlik ‘n miljoen rand betaal, en sy seun in die VSA op universiteit hou.
Boonop, een keer jaar, gaan die gesin op maatskappykoste vir boetman in die
vreemde kuier. Natuurlik is die teenprestasie nie in die kontrak vervat nie.
Toe lek die spulletjie uit, en die eintlike kontrak byt in die stof. Die maatskappy
dog nog die ander kontrak is ook daarmee heen, toe laat weet die, toe gewese
burgemeester, aikôna, daar is mos niks van ‘n teensprestasie nie.
Maar soos Herrie sê, al het die nuwe regering nie korrupsie uitgevind nie, hulle
het dit vervolmaak. Of dit nou “handling fees” vir kontrakte is, of dit “geskenkies is
om die hart bly te maak, en of dit nou sommer doodgewoon tsjôtsjô is, Herrie het
dit als gesien..
Selfs ‘n burgemeester wie se onder die tafel-aksies op ‘n versteekte video-
kamera vasgelê is. Pleit onskuldig, want, voer hy aan, wetgewing maak net
voorsiening daarvoor dat iemand vir prostitusie en diamante in ‘n lokval gevang
kan word. Nie korrupsie nie. Hy is onskuldig bevind, maar Herrie weet nie of dit
iets met sy verweer te make gehad het nie.
Ja, Herrie het al als gesien.
Of nee, daar was variasies wat Herrie nie geken het nie. Ai, soos die slag wat
Herrie deel was van ‘n vergadering met die onderwysbase en die een kollega ‘n
geldjie vir die onthaal kry. Die “onthaal” het in inkopiesakkie in die hoek bly staan
– doodgewone kruideniersware vir die huis met ongewone fondse.
In geheel was Herrie se verslag aan die Ouditeur-generaal oor die hele projek 86
bladsye.
Herrie se Sothonaam het van Lethola (die een wat sag praat ween ‘n gewas wat
die senuwee na die stembande seergemaak het) na Moferefere (die een wat
onluste maak) verander. So erg, ‘n hoofdirekteur uit die vorige bedeling het
Herrie ingeroep en gesê Herrie skep vir die nuwe regering probleme. Herrie, of
dan Moferefere, moet net bietjie diskresie aanleer, leer wegkyk nou en dan, en
as Herrie hom ooit aanhaal sal hy dit “voor die Here ontken.”
Sjoe, so lekker gaan dit, ‘n bekende advokaat se naam is glads “Gaps” en ‘n
rubriekskrywer “Roof.”
En as iemand dalk self moeite het om in te sien wat verkeerd is met korrupsie –
neem dan maar die Wêreldbank se woord daarvoor: Korrupsie is die diefstal van
‘n land se toekoms.

Herrie se kerrie: Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?


Daar is goeie en slegte nuus oor die Vrystaatse paaie.
Die slegte nuus is dat dit sleg gaan met Vrystaatse paaie.
Die goeie nuus is dat die AA in 'n verslag sê die probleme sal oor dertig jaar (nou
is dit nog net 29 jaar) opgelos wees, want teen die huidige tempo van
onderbefondsing, sal daar dan nie meer paaie in Suid-Afrika oor wees om oor te
bekommer nie.
Hoe dan gemaak, weet Herrie nou nie mooi nie, want Transnet bespaar
skynbaar steeds deur spoorlyne op te breek en te verkoop.
Spoorlyne, ter wille van die jongklomp, is sulke lang ysterstawe waarop daar
eens op 'n tyd treine geloop het.
Ag, en sal pa of ma tog verduidelik wat die verskil tussen 'n soustrein en 'n regte
trein is? Weens min plasingsruimte kan Herrie nie hiermee ook nog uithelp nie.
Swak paaie, anders as wat baie mense dink, dateer nie net uit die post 1994-
bedeling nie. Toe die nuwe regering destyds besluit het die naam "Oranje-
Vrystaat" is onaanvaarbaar, het 'n slimjan in 'n brief aan Volksblad die volgende
insiggewende naam voorgestel: Potholes.
Herrie verstaan nie hoekom hierdie voorstel nie die pyp gerook het nie, synde die
nuwe regering dan so danig met die Engels is.
Nietemin, lees 'n mens die geskiedenis, kom 'n mens agter hoe belangrik eers
paaie – wat weinig meer as ossewaspore was, toe spoorlyne, en later weer paaie
was. Ouma Meyer het vertel van die skande jare gelede toe besluit is watter pad
uit Bloemfontein moet eerste geteer word. Die keuse val toe op 'n pad by 'n klein
dorpie verby na nog 'n klein dorpie. So 150 kilometer buite Bloemfontein en so 20
kilometer voor die tweede klein dorpie, daar stop die teerpad. Heel toevallig by
die afdraai na 'n minister se plaasopstal.
By geleentheid kom meld Petrus by Herrie aan – 'n ou man wat in die week op 'n
plot werk, en Saterdae dan met sy verbluffende kennis Herrie se tuin kom regruk.
Petrus kom uit 'n vooraanstaande familie. Sy ouers was boere. Hulle het uit die
grond geraak toe die vorige regering swart kolle "opgeruim" het, en Petrus se
ouers besluit toe om die geld te gebruik om 'n wa en span osse te koop en
transportryers te word.
Toe, op 'n dag, trek die span deur 'n drif toe die rivier skielik afkom. Toe het
Petrus se ouers nie meer die plaas nie en ook nie meer die span osse en die wa
nie, en Petrus het arm grootgeword.
Gelukkig is daar ook baie mooi transportrystories.
Met 'n landboukongres by Rustenburg so 'n klompie jare gelede, vra 'n
moedelose boer uit die Molopo wat Suid-Afrika voor teerpaaie gehad het.
Teerpaaie, antwoord hy toe self. In die Molopo, het hy beduie, hou nie eens 'n
viertrek nie. Hulle sit met produkte op die plase wat by die graansuiers en markte
moet uitkom, maar daar is nie 'n manier om dit oor daardie "paaie" vervoer te kry
nie.
By geleentheid het Herrie self 'n spaarwiel van 'n bakkie verloor toe die pad
tussen Heilbron en Frankfort meer gat as pad was.
Die LPW wat 'n jaar of wat gelede in die Vrystaatse Wetgewer vertel het hoe
dronkbestuurders nou snags geïdentifiseer word, was nie heeltemal oorspronklik
nie, maar dit was darem snaaks.
Verduidelik hy, in die ou dae is die kar waarvan die ligte slinger-slinger
aangekom het, afgetrek, want hy is gesuip. Nou word die ou wie se ligte reguit
aankom afgetrek, want hy is te gesuip om vir die slaggate uit te swaai.
Nou ja, van paaie en dronkies gepraat. By geleentheid val 'n paar spoke 'n
moeilike dronkie lastig: "Gate toe!" bulder hy op die spoke.
Herrie het 'n sluk of twee witblits-versnit geneem en bulder: "Spore toe!" Op die
spore wat nog nie vir skrootyster verkoop is nie.

Herrie se kerrie: Mr. P staan nie meer vir "Pro"


Die Curriebeker staan al vergeet op Loftus maar steeds word die derms uitgeryg
... hoe later hoe kwater.
Eers was dit die skeidsregter, soos Blouwillem sê, Jonathan Kaplyn, wat onder
die nartjies deurgeloop het, maar algaande soos foto's wat van die
beeldmateriaal af geneem is in omloop kom, is dit al hoe meer die lynregter, P.
Lekgotle, wat met Steve se vrot pampoene gegooi word.
Ja, Herrie weet waarvoor die "P" eintlik staan, maar daar is nou soveel ander
weergawes in omloop wat nie vir 'n gesinskoerant geskik is nie, dat Herrie liefs
hierby volstaan.
Dis jammer dat die Vrystaat hom die tweede keer teen dieselfde "Pro" moes
vasloop.
Daar is darem troos. Altwee die liedere wat die Bloues so aanhef, het Vrystaatse
wortels. "Liefling" is die handewerk van wyle Heine Toerien van die
Mielieblaarklub-faam, wat op Kroonstad grootgeword het. Steve wat die ander
een (hoe gaan dit nou weer) aanhef, het van sy skooldae in Welkom
deurgebring. Dis nie net die spelers wat van die Vrystaat af kom nie.
Laat die Blou Bulle die Curriebeker hou. Herrie het nog sy kerriebeker, al is dit op
die oomblik 'n baie bitter beker.
Miskien moet die Cheetahs, as hulle weer sien Mr. P is kantman (ekskuus,
assistent-skuinsregter) of skeelregter), sommer dadelik punte gee. Op dié manier
word beserings voorkom, word spelers wat 'n skewe woord kwytgeraak het nie
geskors nie, en kry die Cheetahs in elk geval nie die punte nie. Dis nou in
wegwedstryde, sodat die ander span darem ook nie die hekinkomste kry om nog
Cheetahs mee te koop nie. Met tuiswedstryde moet 'n mens net vir Mr. P in die
oor fluiter Jannie Els, die man wat sulke mooi Naasslaanwerk vir die Vrystaat
gedoen het of die amper vergete Nico Botha is onder die toeskouers.
En as dit nie genoeg is nie, net 'n kaalholler 'n draai oor die veld laat hardloop
sodat Mr. P dink daai Bauernmeister, of so iets, is in die geweste. As hy 'n groot
WP-voorspeler (Herrie kan uit die vuis nie onthou wie hy was of van waar hy
gekoop was nie) so kan têkkel is Mr. P bloot kleingeld.
Maar eintlik is Herrie nou so moeg vir rugby, Herrie oorweeg dit om rolbal te
gaan speel. Maar, so het Herrie agtergekom, rolbal is 'n baie gevaarlike sport.
Jare gelede het 'n student aan die Saldanha-akademie wat provinsiaal gespeel
het, se vriend sleg seergekry op die rugbyveld, en hy besluit toe die kool is die
sous nie werd nie. (Dit was nou in die dae voor beroepsrugby en die koolblare
groen blare, en die sous die soustrein geword het). Hy hou terstond op met rugby
speel, en gaan speel rolbal. Maar met sy eerste probeerslag glip daai
oumensalbaster uit sy hand, en vergruis 'n klomp beentjies in sy voet.
Hoede af vir die land se mense wat bereid is om hierdie gevaarlike spel aan te
durf.
Herrie het jukskei oorweeg, maar as Herrie opgewonde raak, kry hy dalk net 'n
skei wat 'n verergde speler by Herrie se een oor in, en die ander uitwerk. As die
ou mooi mik, kan hy dalk Herrie se brein raaksteek.

Herrie se kerrie: Van faksseëls en nommer asseblief


Teen die Herries se muur is 'n prent van 'n faksmasjien waardeur 'n mens
ingevoer word, en 'n tweede deel van die prentjie waar die ou redelik platgedruk
anderkant begin uitkom.
Aangesien dié prentjie in Mev. Herrie se sake-onderneming op is, en die
onderneming onder meer fakse stuur, het die Herries 'n prys op die faks van
mense gesit – naamlik R300.
Ja-nee, vir Herrie bly 'n besigheid die ding wat die hond op die grasperk maak, al
sê Besigheid Suid-Afrika nou ook wat. Nie dat mens deesdae die verskil kan
agterkom nie.
Maar ewewel, die gefaksery gee ure se frustrasies en ure se humor.
So in die beginjare het mense gereeld opgedaag en gesê daai faks wat hulle
gestuur en voor betaal het, het toe "nooit deurgegaan nie."
Veral banke en staatsdepartemente het gereeld "nie die fakse gekry nie."
Dan het Mev. Herrie die persoon vriendelik daarop gewys dat die bewysstrokie
anders sê, en as die persoon anderkant nie bykom nie, gaan tien keer se stuur
die faks nog nie anderkant "laat uitkom nie." Bel eers die mens en sê hy moet die
fakse ontvang, nie weggooi en dan bewusteloos pleit nie.
'n Boereneef het so 'n moeilikheid met 'n koöperasie gehad. Hy faks 'n dag of
twee vooruit wat hy kom laai, maar kom hy daar, soos klokslag, het hulle "nooit
die faks ontvang nie."
Op 'n dag maak hy die bewysstrokies bymekaar en skryf vir die direksie.
Van toe af, as hy nog aangery kom, word al gewys waar hy moet intrek dat
gelaai kan word.
Presies hoe onkundig baie mense aanvanklik oor fakse was, blyk uit die verhale
wat tegnici vertel. Dié storie het al baard - van die kliënt wat bel en sê gaan kyk
wat by die fakskantoor aangaan, hy het dieselfde faks nou al 13 keer gekry. Die
baas gaan kyk, en sien hoe die bode die faks weer indruk elke keer soos dit
anderkant uitkom. "Kyk, daar kom hy al weer uit!" brom die gefrustreerde bode.
Tog hoor 'n mens nuwes.
Op 'n dag word 'n tegnikus laat kom na die kantoor van 'n Direkteur-generaal. Die
faks werk nie. Hy kry die fout dadelik; die skoonmaker het met haar werkery die
telefoonlyn uitgeruk.
Die DG wil egter weet wat was fout. Die tegnikus, 'n platjie, sê toe hulle het hul
dokumente sonder die nodige seëls probeer stuur.
'n Ruk na hy op kantoor terug is, bel die baas hom. Hy moet kantoor toe kom.
"Wat het jy vir die DG vertel?" wil hy weet. "Die man was hier om te kom
faksseëls koop."
Gorrel. Die tegnikus dog 'n DG sou darem snap dit was 'n grappie.
"Wat sê jy toe vir hom?"
"Nee, ek sê toe vir hom die tegnikus is in elk geval op pad na die kantoor toe en
hy sal sommer die seëls saamneem en kom verduidelik hoe dit werk."
Praat van 'n baas wat op sy voete kan dink.
Maar nog steeds is daar onkunde.
Mev. Herrie is die dag siek, en Herrie probeer na die beste van vermoë instaan.
Die ou omie – 'n gereelde klant – kom stuur 'n faks, en hy het die nommer boaan
ingeskryf.
Herrie bel die nommer, Jaansberg toe, en na 'n ruk kom 'n mansstem: "Hallo."
Herrie gooi die rooitaal: ""'n Fêkslaain plies."
"A what?"
Nou kyk, as iets Herrie vinniger as 'n kortsluiting laat trip is dit iemand wat 'n
fakslyn antwoord en dan nie weet hoe om die groen knoppie te druk nie.
"'n FêX LAAIN PLIEZZZ!"
"What do you want?"
"Press de ghrien battin on de masjien!" Maar Herrie se bloed kook.
"But our faxes are automatic."
"OK, ai wil foun de laain ighyn."
En Herrie maak weer so.
En waaragtig.
"Hello."
"'n Fêx laain plies," vra Herrie geduldig.
"But our faxes are automatic."
"Nieow fôr wat doe joe aanser de *&^% masjien?"
"But this is my telephone line!"
Herrie maak verskoning en gryp pen en papier, en Herrie sien die omie gryp ook
pen en papier, en Herrie skryf die faksnommer neer. En stuur die faks sonder 'n
probleem.
Herrie vertel vir mev. Herrie. "O," sê sy, "ja, die omie raak baie deurmekaar. Dis
sy dogter en skoonseun, 'n professor, se besigheid, en ek het al lankal die
faksnommer neergeskryf en hou dit eenkant sodat ek die regte nommer bel as hy
kom."
Mev. Herrie was dus al deur dieselfde meul, ten aanskoue van die omie, en hy
bly die besigheid se telefoonnommer verskaf.
Ter wille van Mev. Herrie se besigheid se oorlewingspotensiaal moet Herrie tog
nie daar deel van die openbare beeld wees nie.
Maar die meeste klante het darem lankal geleer daar is nie so iets soos 'n
faksnommer wat "amper reg" is soos hulle vroeër skynbaar geglo het nie. Nou is
dit nog die e-posadresse wat 'n mens klante moet oortuig daar is net een regte
weergawe, en dis die presies regte een, nie die amper regte een nie.
Dit laat 'n mens amper na die "Nommer asseblief-dae" verlang. Soos die proffie
wat vertel hy bel in sy studentedae vir sy pa in Ugie. Hy vra die nommer op die
plaas.
"Nee, Sarel, ek lui by die koöperasie. Ek het hom nou net daar sien instap."

Die moeilike oranje wors


Sondagoggend na die Curriebeker-eindstryd ry 'n man met sy groen tjorrie met
FS-nommerplate deur Bloemfontein se woongebiede se strate. Die kar is omtrént
getooi met blou ballonne, en so ver soos die Blou Bul-ondersteuner ry, so ver
toet hy.
Herrie het 'n spesmaas 'n chirurg sou voor die son water trek die toeter moes
uithaal waar 'n Cheeetah-ondersteuner dit kort voor lank sou indruk.
By die plek waar mens mos vir die kleintjies die gatsometer indruk om hul koors
te meet.
Nietemin. Elke hond kry ook sy dag. Dié merk Herrie die vorige dag, voor die
wedstryd, op die boeremark op.
Van die een kant sien Herrie kom iemand met sy woelige worshond aan 'n oranje
leiband aan, en van die ander kant iemand met twee effe groter steekhare sulke
pers-blou-leibande.
Nou laat niemand vir julle ooit vertel honde is kleurblind nie. Nee, nie as 'n brak 'n
worshond met 'n oranje leiband is nie. Want sien hy iets blous, sien hy net rooi,
by wyse van spreke.
Dis 'n aardigheid om te sien hoe die plat hond se baas moeite het om daai wors
van die verbouereerde steekhare af te hou. Dis 'n tande uitpakkery van 'n ander
wêreld, en sy gromme het hy iewers by 'n Cheetah geleer. Herrie kan net dink
wat van daai blou ballonne sou oorbly sou iemand dit in sy kop kry om vir die
wors te sê: "Sa!"
Dis toe maar 'n blou sakkie aartappels wat iemand op die mark gekoop en
roekeloos langs 'n stalletjie neergesit het waar hy aangedoen het, wat dit moes
ontgeld.
Dié hond het nie Oros gebruik om te wys wat hy van die blou sakkie dink nie,
deur dit met 'n oranje vloeistof te merk.
Herrie weet nie of dit waar is nie, maar hy verneem die Blou Bul-base is so
beïndruk met die skrumlesse wat hulle by die Cheetahs gekry het, hulle gaan
nou Cheetahs koop vir die paar posisies wat nog nie deur Blikore beklee word
nie. Harold Verster het glo reeds die faks gekry (die Bulle het nog net tjekboeke
uitgevind, nog nie e-pos nie) waarin die Blou Bulle vra of hulle volgende jaar hul
tuiswedstryde nie maar op die Vrystaatstadion kan kom speel nie.
Sien, want dan speer hulle baie op verblyfkostes want die speler kan sommer by
hul ouers oorslaap.
Harold het, verneem Herrie op goeie gesag, terug laat weet die Bulle is na die
Haaie en die WP op die waglys.
Die laaste klompie jare kry die Vrystaters gereeld Curriebekerkoors.
En dan is die hele wêreld oranje.
Só oranje dat selfs 'n paar taxi's oranje geverf is – ene nogal metalic, en al het
die destydse LUR ir sport oranje verbied.
Sien, ken nie haar geskiedenis nie.
Nartjies is ook oranje, en die en positiewe ding is dat mens nie die gedokterde
weergawe met die vuurwater pawiljoen toe kon neem nie.
Die nadeel is dat die plaasvervangers, suurlemoene en veral lemmetjie (geel en
nie oranje nie) darem baie beter en verder geslinger kan word as 'n nartjie.
'n Lemmetjie (nee man, nie die ding waarmee jou stukkend skeer as jy babelas
het nie – dit wat die Engelse 'n lime noem, as mens nou naby genoeg aan die
kantlyn sit, kan 'n mens tot 'n skelm skeidsregter tussen die blaaie pot.
Maar die rugbybase is half tee daarop.
Maar wat, as die oranjegolf eers spoel kan 'n LUR maar haar mond uitspoel soos
sy wil., daai golf loop.
Die oggend voor die eindstryd op die Langenhovenparkboeremark is omtrent als
oranje. Die vlae, die hoede, die klere.
En dit spoel toe ook oor na die diere.
Kom iemand met so 'n woelige worshondjie verby aan 'n oranje leiband.
En van voor af kom mense met twee steekhare aan sulke pers-blou leibande.
Fout.
As iemand gedink het honde is kleurblind, het niemand dit vir daar worsie vertel
nie. Dié is op die plek uit sy humeur uit, en probeer daar twee brandsiek brakke
net bymekaar maak. Sy baas moet net lelik rem, of die enkele worsie het van
twee brakke bloubulfrikkadelle, of eerder stew gemaak. Lanklaas 'n worsie so
sleg die m*%r in gesien. Dis die ene tande-uitpakkery en 'n gegrom wat selfs 'n
leeu stert tussen die bene sal laat koers kry.

'n Anderster soort swartsmeerdery


In die tegnologiese era sou 'n mens nie veel moeite ondervind nie om sommer
gou iewers iets raak te loop van hoe iemand iewers "letterlik" swartgesmeer
word. Met letters.
Of dit nou 'n (nou reeds gewese) rektor of twee met skelmpies is, of iets anders,
dis daar.
En dit wat in 'n stadium "infame leuens" was, staan kort voor lank in 'n wit trourok
langs die swartgesmeerde.
Veral die hoë bome vang wind, maar as mens hard genoeg Google gaan mens
agterkom selfs die geringste van ons het nie ontGoogled daarvan afgekom nie.
Bloggoggas noem mens hierdie gespuis. Siek lafaards wat met skuilname sit en
die vinger in ander se oë druk met stories waarvan enige ooreenkoms met die
werklikheid bloot toevallig is.
Of op Mixit "sletlyste" opstel met die name van onskuldige meisies wat in die
modder gesleep raak. En die diensverskaffers wat ewe vroom staan en sê hul
identiteit moet weens hul, die misdadigers, se reg op privaatheid, beskerm word.
Siestog. Want die Appèlhof het nie lank gelede nie bevestig kriminele laster is
steeds 'n misdaad. Dus meneer en mevrou die diensverskaffer, jy help
misdadigers en ondersteun misdaad. Cappish?
Slagoffers kan dus met vrymoedigheid 'n klag by die polisie gaan lê. Neem net 'n
uitdruk van 'n geGooglede artikel saam oor die appèlhof se bevinding om aan die
polisie te bewys dis wél 'n misdaad, want anders gaan "hulle" jou vertel dis
sivielregtelik. Maak maai wôds. Die uitspraak self is by
http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2008/98.html
So het Herrie ook sy "persoonlike" bloggogga. Natuurlik het Herrie uitgepluis wie
hulle is – 'n paar misoesterige vriende wat moet saamspan om "voor" te kan bly,
en siek van gees tot die dood toe.
Maar so is daar ook gevalle van letterlik swart smeer.
Soos toe 'n tegnikus 'n fotostaatmasjien skoongemaak het. Van die swart poeier
mors op die grond, en hy vra die onderneming wie se fotostaatmasjien gelol het
of hulle dalk 'n stofsuier het wat hy kan gebruik om skoon te maak.
"'n Splinternuwe," spog hulle.
Splinternuut en nog heeltemal ongebruik, en hy prop in en begin opsuig. Dis 'n
fris model wat goed opsuig. Net 'n sekonde of twee en al die poeier is
silwerskoon opgesuig.
Dis toe hy omdraai dat hy sien wat gebeur het. So nuut was daai masjien dat
niemand nog die deksel vasgeklam het nie. Soos die swart poeier diekant
opgesuig is, so is dit anderkant op 'n swart bestuurder agter haar lessenaar
geblaas het.
Gelukkig is dié by die stadium van ras- en senioriteitsgevoeligheid verby: "Ag nee
a, ek is vanself swart. Ek hoef nie nog swart gesmeer te word om vir BEE te
kwalifiseer nie!"
'n Ander kry wel die swart poeier opgeruim, en besluit om dit in die firma se toilet
af te spoel. Dis die teorie.
Hy gooi die poeier in die toilet. Fout. Dié poeier, in die handel en wandel as
"toner" bekend, meng nie met water nie. Toe hy die ketting trek, kos dit uithaal
om te makeer voor die poeier wat soos 'n wolk opstyg, hom ook swart smeer. Die
firma se deftige badkamer kan egter nie ook spore maak nie.
Vir die res van die dag het die firma se mans wat vir 'n "ringsitting" gegaan het
darem die voorreg gehad dat minstens 'n deel van hul anatomie vir "affirmative
action" kwalifiseer. Of redeneer Herrie nou soos sy agterent?

Bacchus en die bobaasstorieverteller


Mans wat die tiermelk nadersleep en dan die vrou en kinders laat deurloop is
gereeld in die nuus, en is ‘n probleem wat nie sommer gaan verdwyn nie.
Die uwe se oupagrootjie was jare gelede in ‘n klein plekkie in die Noordweste in
‘n gemeenskapsleier. Veel geleerdheid had hy skynbaar nie, en sy amptelike
nering was wamaker. Maar hy, Mattewis Bril, was ook koster, orrelis,
sieketrooster, ouderling en vele meer.
Een aand gaan lê hy ‘n jafel voor wat gereeld te diep in die bottel gekyk het. Van
‘n tak bokant die man wat so ‘n onnodige stel voetspore bytrap, laat hoor hy met
‘n hol stem:
“Vanaand sal jou siel van jou opgeëis word.”
Oupa Mattewis lê hierna die rieme neer na die pastorie, waar hy geweet het ta
binnekort gaan kom aandoen. So in die haastigheid word nog ‘n paar
gemeenskapsleiers laat kom, om die “sterwende” in sy sterwe by te staan.
En ook nie lank nie, is die man die ene bewerasie daar.
“Ons wag al vir jou,” sê die dominee saaklik en begelei die “sterwende” na ‘n
vertrek waar die waardige groepie gereed sit. Die sterwende word eerbiedig
ontvang en op ‘n bed laat lê, met die kerse wat gedemp flikker.
Die dominee gaan sit langs die sterwende, en die wag begin. Kort-kort kyk die
dominee op sy horlosie.
Wie weet hoeveel later – waarskynlik na die man al nugter genoeg was om die
boodskap te kry, is hy eers reggehelp.
Of die vrou en kinders weer deurgeloop het en of Bacchus sy trek gekry het,
weet ek nie.
En dis my punt.
Dié storie het ek by tannie SC gehoor, en sy weer by haar pa, ‘n regte
Namakwalandse storieverteller. Tannie SC is pas oorlede, en die kans om van
besonderhede seker te maak wanneer haar stories vir die nageslag opgeteken
word, is verby.
Nie alle storievertellers is skrywers nie, en tannie SC is een van verskeie
storievertellers wat ek al raakgeloop het wat ook nie ‘n eie nageslag het wat dit
kon opteken nie.
In my eie beskeie hande het dit so gebeur dat ek wyle dominee Tokkie se
Dopperstaaltjies opgeteken het kort voor hy dood is. Ek het enkeles van tannie
SC se staaltjies opgeteken, en ‘n klompie van my oorlede pa, tannie SC se broer.
Dit is ongelooflik hartseer hoeveel van ons land se verhaleskat saam met die
bobaasstorievertellers graf toe is.
Mense, teken tog op, en as dit kan plaas dit op die internet al is dit hoe
gebrekkig. Wie weet, eendag kom lees ‘n bobaasstorieverteller dit, en hy maak
soos die oorspronklike verteller in elk geval ook gemaak het: kleur in en maak
weer ‘n meesterstorie daarvan.

Die onwillige lyk


Tannie SC Toerien het pas heengegaan.
As gebore Noordwester het sy egter sakke vol staaltjies gehad, en nou, met die
gedenkdiens op hande is al wat in ‘n mens se kop omkom, juis humoristiese
staaltjies wat sy oor die dood vertel het.
Met die Groot Griep in Piketberg het dit naderhand so gegaan dat ‘n man
daagliks met ‘n donkiewaentjie by die huise omgegaan het om afgestorwenes te
gaan oplaai vir hul laaste reis.
Met sy takie afgehandel, is hy na die laaste bestemming op pad, toe een van die
“lyke” agterop die waentjie bykom. En hy hou net mooi niks van waar hy hom
bevind nie.
Soos blits is hy van die waentjie af, en lê die rieme neer.
Die wadrywer sien een van sy passasiers ontsnap, en sit hom te voet agterna.
Maar kyk, ‘n man wat so geskrik het, kan darem vreeslik hol, en die wadrywer
staan nie ‘n kat se kans nie.
“Nou ja,” skree hy agter die onwillige “lyk” aan, “dan moet djy maar self sien hoe
djy begraaf raak!”

Die ding in die huis wat niemand sien nie...


Hulle woon in huise – waarskynlik alle huise. In sommige huise in die kaste, in
ander huise in die wasgoedmandjie, of kruip op die vloere rond.
‘n Mens sien hulle egter nooit. ‘n Mens sien net die skade wat hulle aanrig. Of
eintlik sien mens juis nie die skade nie, want hulle vreet dit op.
Dis nou daardie ding wat kouse en sakdoeke vreet.
Die ergste is, hy vreet nie ‘n paar sokkies op nie – nee, hy vreet altyd net een
van ‘n paar.
Kort voor lank sit die slagoffers met ‘n trop sokkies waarvan nie twee bymekaar
pas nie.
En dit maak nie saak hoeveel verjaarsdae die mannegoed in ‘n huis gehad het
met ‘n Kersfees tussenin nie, en waar almal ‘n hele vrag nuwe sakdoeke in sulke
netjiese pakkies verpak, gekry nie – dis net ‘n rukkie dan makeer die sakdoeke
weer.
Eers sal pa en seuns oor en weer by mekaar sakdoeke kom leen, afhangende
van wie se kas nog nie so erg deurgeloop het nie.
Soms steek die ding wat sokkies vreet van die sokkies iewers weg, soos in die
verste donker hoekie onder ‘n bed, of heel uit sy plek uit onder die T-hemde in
die laai.
Of die ding wat sokkies en sakdoeke vreet, familie is van die ding wat gate in
onderbroeke vreet, weet g’n mens nie, want hy is net so onsigbaar. En die ergste
is, ‘n man kom skynbaar self nie agter die ding wat die gate in vreet het ‘n man
se ondergoedgoedjies beetgehad nie. In elk geval nie voor hy in die koerant lees
van die gate nie.
Die uwe het gemeen daar is ook ‘n ding in die huis wat lakens skif en later gate
deurvreet, maar vroulief sê ou Herrie se hakskene is net skurf. En om te wys dis
so, is ‘n ou, dik laken dubbel gevou en slaap nou onder my skurwe pote, en die
lakens bly heel.
Jare gelede het ek korte mette van die ding wat sokkies vreet probeer maak, en
rottegif uitgesit. En heng, was Jors Troelie nou in die dog box?! Want Klein
Herrie was willebooslik ongelukkig oor die tandemuis wat afgesterf het, en hy
was juis flink aan die wissel en die mannetjie het vermoed hy gaan skade in
klinkende munt ly..
Een nag was Oudste doodseker hy het op die ding wat sokkies vreet getrap,
maar dit blyk toe hy in die donker klein vertrekkie toe is, het hy op Mevrou se
skippertje getrap. En dié het op slag tande ingelê.
Want kyk, vroulief se brakkie is nie maklik nie. Net sy mag aan haar hondjie vat,
die ander hoor net ‘n vlugtige grom en dan loop die bloed. Vier steke was wat ‘n
kliënt nou eendag opgedoen het.
Om ‘n idee te gee. Vroulief se suster en twee seuntjies kom kuier, en by vertrek
wil die een jongetjie opsluit vir Snoetie gaan groet. Kry haar waar sy vir die
gedruis wegkruip, onder ‘n bed.
“Tannie Ousus!” roep hy benoud, “die hond brul vir my!”
En moenie dink Snoetie se teenwoordigheid en humeur het die ding wat sokkies
vreet se spoed gebreek nie. In teendeel, jongtyd het sy self heerlik met die ding
meegedoen en self aan sokkies weggelê.
Herrie se kerrie: Julius en die soldate
Die chaos tydens die soldatebetoging by die Uniegebou het Herrie nogal kwaai
aan ‘n Oos-Vrystaatse plaas laat dink – die spoed waarmee die soldate laat
spaander het herinner Herrie nogal erg aan ‘n kombinasie van meerkatte wat laat
spaander as daar ‘n skoot tussen hulle klap, en springhase tydens ‘n nagtelike
springhaasjag.
Selfs die klein waaierstert wat by ouma Engela-hulle se stoor ‘n aartappel
vasgelê en haastig daarmee op pad gate toe was, was nie só aan’t wegholle
soos ons dapper soldate nie.
Met al Herrie se ervaring van springhaasjag (en val in die donker oor kontoere)
kan Herrie hom egter nie indink dat hy al ooit ‘n springhaas of ‘n meerkat gesien
het wat oor ‘n draad probeer klouter, of voertuie aan die brand steek nie.
Die polisie het glo met rubberkoeëls op ons bewakers losgebrand, dus wil Herrie
nie graag sien wat gebeur as Zimbabwe Suid-Afrika binneval nie.
Want só verstaan Herrie die aansprake dat Zimbabwe se weermag sterker as
Suid-Afrika s’n is, die vlote vermoedelik darem uitgesluit.
Ter versagting darem, die soldate was ongewapen. As hulle wapens het, hoop
Herrie is hulle op plekke waar hulle nodig en nuttig is soos om ons landsgrense
teen veediewe, plaasmoordenaars, onwettige immigrante, brandstigter,
weidingsdiewe, dwelsmokkelaars en annerklike ongewenste karakters te
beskerm.
Baie jare gelede al was die grens met Lesotho al so deeglik bewaak, dat ‘n
student wie se paspoort verval het, die kans waag om vir ‘n casino-besoek in sy
maters se kar se kattebak oor die grens gesmokkel te word. Die ingaan was
suksesvol, maar met die uitgaan is hy aan die Suid-Afrikaanse kant (gelukkig vir
hom) betrap.
Die mannetjie het darem so skotvry daarvan afgekom dat hy later parlementslid
kon word (hoewel hy tjoekie toe is oor die wyse waarop hy sy kiesafdeling gewen
het). Vandag is dit gewoon op ‘n geskikte plek oor die grens stap. Oor advies om
parlementslid te word, wil Herrie hom egter nie uitlaat nie. Dit hang te veel af. As
‘n man soos Roy Jankielsohn wil wees, moet hy bereid om verskriklik hard te
werk, want Roy is ‘n werkholis.
Om soos sommige ander te wees is groot bekke en die vermoë om die
allergrootste twak of omstredenhede kwyt te raak die enigste vereistes. Julius
Caesar sou byvoorbeeld nooit soos sy naamgenoot as hy by die lughawe gekom
het gesê het nie: “Ek het gekom, ek het geen witmense gesien nie, ek het
vreeslike twak gepraat.”

Glimlag met afstandbeheer


So met die skrikmaakstories oor hoe skoon of nie skoon nie die land se water is,
word soms vergeet dat afgesien van die chloor om die water bakterievry te kry
wetgewing ook bepaal dat fluoor in die water gegooi moet word.
Ter wille van die nasie se tande.
Maar ten spyte van al die soorte tandepasta, beter tandeborsels en ander
maniere om ‘n goedgetande bevolking te probeer verseker, is daar tog nog die
vrot kolle, by wyse van spreke.
Bessie het by ‘n baie arm skool skoolgehou, en kry eendag ‘n sak neute by ‘n
leerling persent. Gou het Bessie die neute verorber, maar toe begin dit haar pla
hoe ‘n kind uit so ‘n arm huis met sulke deftige neute kon spog. En sy vra.
“Juffrou, my ma het ‘n boksie chocknuts persint gekry, maar omdat sy al lankal
op die ghamse loop het sy net die tjôklits afgesyg.”
Arme Bessie.
Die ouers van ‘n knapie in die kosskool begin naderhand lont ruik oor hoekom
hulle naweke so baie vir die gewisselde tande moet opdok wat saam huis toe
kom, en vir die tandemuis onder die bed gelos word.
“Maar dis oorlat ons tandemuis die rykste is. By die koshuis het ons gekyk wie se
tandemuis gee die meeste geld, en nou bring ek maar almal se tande vir ons
tandemuis.”
So eenvoudig.
Uiteindelik, goed opgepas of nie, sit ‘n klomp tog maar met kunsgebit, of as die
geldjies ontbreek, word op die ghamse geloop.
Op ‘n dag daag ‘n binnelandse vakansieganger by Houtbaai by een van die
vissersbote op. Hy wil asseblief saam uitgaan, ‘n slag voel hoe dit voel.
Om ‘n lang storie kort te maak is die man naderhand saam uit, en is hy goed
verstaan gemaak daar is niks soos omdraai vir seesiek of so nie.
Maar skaars is die oop see bereik, toe hang die binnelander oor die kant. Hy
voer visse, en die bemanning vang visse.
En dis met so ‘n voerslag wat die kunsgebit saam diepsee toe is. Nou is die man
nie net seesiek nie, maar het nog ‘n naarheid oor sy stel blink byters wat hy kwyt
is.
John, een van die ouer vissermanne, is ‘n platjie, maar hy is ook bietjie uniek in
die sin dat hy self oor ‘n deftige stel kunsgebit beskik. Dis nou danksy ‘n seun
wat tandarts loop word het.
Met sy volgende vis, sny hy dié gou oop, en prop sy eie “removable smile” in die
oop vis.
Hiermee draf hy opgewonde na die ongelukkige vakansieganger.
“Meneah, meneah!” roep hy platbek. “Kyk net wat kry ek in die vis se maag.”
Die siek binnelander kyk, en kan sy oë nie glo nie. Hy pluk dit uit die vis se
ingewande, spoel dit af, en prop dit in sy mond. Sommer so met dieselfde
beweging kom dit weer uit, en voor John kan keer trek dit oor die boot se kant:
“Dankie, maar dit pas nie.”
John was ook ‘n diep kerkman, maar daai dag, sê hulle, het hy so geswets tot die
seeumeeue het wyd gehou.

Die onrustige see...


Die familie sit om die tafel. Eintlik is dit ‘n spesiale tafel met los blaaie wat inskuif,
want die familie is groot, en ouma staan daarby: As daar geëet word, word aan
tafel geëet. En daar word gekuier al word die wat nie so opdringerig is nie,
doodgepraat en kuier eintlik glad nie saam nie...
En al wil party wie se rûe nie van die regop stoele later voel dit wil middeldeur
breek. Ouma glo ‘n mens sit op sy gemaklikste op ‘n klipharde, regop
eetkamerstoel..
Vandag sit Benban en sy ma ook aan tafel.
Die Here het die vorige week uiteindelik vir Benban se pa kom haal. Oom Jan
was gereed om sy Skepper te ontmoet, en het a so swaar gehad met die
jarelange hartversaking.
Dis juis oor die hart dat hulle wortel op die Knersvlakte opgetrek en in Bethlehem
kom bly het. So het hulle darem meer kontak gehad met Benban se ma se
suster, tant Mieta. Sy en haar man, Daan, boer buite Bethlehem, en oom Daan
se ma woon by hulle en regeer die huishouding.
“Ek het altyd gewonder, Dina, hoekom julle met Jan se hart Bethlehem toe getrek
het, en nie see toe nie,” sê oom Daan vir Benban se ma.
Dina giggel liggies.
“Daan, jy weet mos ek was Jan se tweede vrou. Hy was mos jare lank kinderloos
getroud met Sophie, en sy het tot haar dood byna nooit haar voete van die plaas
gesit nie.
“Toe ek en Jan getroud is, was hy al baie verskimmeld vir iewers kom. Toe ek
hom por om Kersfees saam met die bure na hul kampplek naby Honneklipbaai te
gaan, kom ek agter hy het ‘n fobie vir die see. Nooit uitgevinne wat sy
moeilikheid met die see was nie.
“Maar ek werk hom om darem ter wille van Benban een vakansie saam te gaan,
en naderhand had ek hom omgepraat. So het ons ‘n tent loop kry, en Desember
is ons saam.
“Maar by die see...” Dina sug, en trek bietjie gesig om te wys dit was maar
taamlike drama.
“Jan het doer op ‘n afstand bly staan na die tente op is, en die see erg wantrouig
bekyk. Benban is toe saam met die ander see toe. elk met ‘n handlyn...
“ ‘Neef’, sê Jan naderhand vir sy neef Karel Boberg, ‘smaak my die see loop vol.
Moet ons nie meer die tente bietjie truskuif nie?’ “
“Neef Karel lag...’Neef, dis die gety wat inkom. Dis boonop springgety, so die
water was baie laag, en hy gaan ver opkom, maar darem nie naby tot hier by die
tente nie.’ “
“ ‘Almiskie, maar ek hoor dit het goed in Basotholand gereën eb die Oranje is
vol.’ “
“ ‘Nee man, in Job sê die Here mos mooi vir Job dat Hy wat die Here is mos vir
die see sy bedding gegee het.’ “
“ ‘Almiskie, ‘ maar oorle Job had darem baie moeilikgeit waarsonder ek kan
klaarkom...’ “
“’n Ruk later is Benban met ‘n reuse vis van die see af terug. Ek wil toe by hom
weet waffer soort vis dit is...”
Benban raak rooi in die gesig so skaam kry hy, en druk omtrent sy kop onder die
tafel in. Hy kry elke keer skaam as sy ma die storie vertel...
“Bendan-hulle het by die see ‘n klomp Engelse op ‘n hoë rots gekry wat met
groot visstokke sulke hompe aas diepsee ingeslinger het. Toe hulle sien Benban-
hulle laat sak hul handlyne in ‘n klein sloepie het hulle die kinders vreeslik
gekoggel. Gelukkig het nie een regtig Engels verstaan nie, anders kon dit ‘n
lelike ding afgegee het.
“Maar skielik sleep Benban daai groot vis op land uit, en die Engelse het in
verwondering ‘n paar opmerkings gemaak,
“Dis toe ek hom vra watter soort vis dié is, Benban ewe onskuldig sê: ‘Daai
Engelse op die rots het dit ‘n f&^%ing miracle genoem.’”
“Ewe wel, die volgende oggend toe die ander mense lekker uitgerus met die see
se geruis in die agtergrond opstaan, toe is ons en ons kampgoed vort. Jan kon
nie rus kry nie – die see het die heel nag, volgens hom geraas, en hy het kort-
kort gaan kyk of Basotholand se baie reën nie die see te vol beginne maak nie.
“Toe dokter vir sy hart aanraai hy trek na ‘n koeler plek by die see...
“En so het ons toe Bethlehem toe gekom waar ons darem iemand ken...

Beêl se bul
Almal ken én haat die verskynsel van juffrou se witbroodjie. Maar hoe gemaak as
die klein pes die skoolhoof se witbroodjie is?
Klein Anja en Sonet was beide in ‘n bekende meisieskool se koshuis. Met Anja
kon dit nie anders nie. Haar ouers het ver buite die stad geboer, en koshuis was
al genade.
Met Sonet was dinge bietjie anders. Haar pa het ook geboer, maar haar ma het
in die ruim en luukse dorpshuis gewoon, in ‘n heel skaflike dorp met ‘n baie sterk
sosiale kring. Dis net, ma het haar neus vir die dorp se skool opgetrek, en
daarom is Sonet heel vrywillig na die prestige stadskool se koshuis. Boonop was
Sonet se ma en die skoolhoof ou universiteismaats.
Anja was hardwerkend en plat op die aarde, wat nie kon wag om naweke weg te
breek plaas toe nie. Sonet het moeiliker aangepas, en het haar so erg geskaam
dat haar pa ‘n boer is, dat sy sy beroep as sakeman opgegee het. Sy ruim
aandele in die koöperasie, sien.
Anja en Sonet was kamermaats in die koshuis. En dis hier waar die lollery
ingekom het. Gereeld was die twee se huiswerk dieselfde, en die een het die
ander van afskrywery beskuldig. Die juffrou het die pligsgetroue Anja geglo, maar
die skoolhoof vir Sonet, en so het Anja se voortgesette bywoning van skool en
koshuis naderhand aan ‘n dun draadjie gehang.
Toe besluit juffrou dit kan nie so aangaan nie, en privaat bespreek sy haar plan
met Anja.
Die Vrydag kom die opdrag. Dinsdag soek ek ‘n opstel oor ‘n plaasdier. Juffrou
sien die vies trek op Sonet se gesig, en het geweet – die plan gaan werk.
Dinsdag moet ‘n paar kinders hul opstelle in die klas lees. Sonet is een, en val
weg met “Be-êl se bul.”
Daar is dadelik ‘n gegiggel in die klas. Sonet gee die klas ‘n verwoede kyk, en val
weg. Be-êl is ‘n slim plaaskind. Sy het kleintyd ‘n bulkalfie by haar pa persent
gekry, en die twee was gou onafskeidbaar. So mooi het Beêl vir haar bulletjie
gesorg dat hy ver die meeste melk gegee het...”
Dié keer het juffrou die bewys gehad. Anja het die Vrydag voor sy plaas toe is
reeds haar fiktiewe opstel vir juffrou gebring om ‘n fotostaat te gaan maak. Op
die plaas het sy haar regte opstel oor haar oorlamse hanslam geskryf.
Later dieselfde dag sit Sonet se ouers saam met die skoolberader in die
skoolhoof se kantoor, en word mooi aan hulle uitgespel dat Sonet eintlik verwerp
voel, en dat die hele saamspelery oor status en die prestige skool ‘n front was
om haar ma te plesier en so aanvaar te word.
Iemand het later die dag Sonet se besittings in die koshuis kom haal...

Pumba die kruisiging


Pumba verlang.
Dis skoolvakansie en die meeste skoolvakansies gaan haar kleinbasie, Nic, na
sy oupa-hulle plaas toe daar anderkant Bethlehem. Daar boer die man kliphard
en vergeet omtrent van die huis, want by die huis wag ‘n universiteits-
hereksamen. In Wiskunde. Jeg!
(Dit was verlede jaar, vanjaar is hy los deur)
Nou erf ek grootliks vir Pumba. Pumba is ‘n jong boerboel. Nou nie stamboek
nie. Soos sy verloopte basie kleintyd van ‘n voorgangerhond met ewe
twyfelagtige herkoms gesê, dis ‘n kruisiging.
Pumba is ‘n kruisiging. Al manier hoe sy geleer kon word om nie die kat op sig te
probeer doodbyt nie, was om haar met ‘n baie sterk pepersproei te spuit.
Buite is die arme kat steeds vrybuit. Vir ‘n ouerige kat is dié nog vreeslik flink om
al wat boom is te bestyg.
Pumba is wetgesgeleerd. As ‘n mens gou winkel toe wil stap om iets te gaan
koop, moet ‘n mens dié voorneme vreeslik omsigtig aankondig. Want die woorde
“stap” en “loop” en selfs “wandeling” verstaan sy nou al in Afrikaans, Engels,
Suid-Sotho en Xhosa. En moenie dink omdat sy ‘n paar vertrekke verder op Nic
se bed lê en slaap sal haar radarore dit nie opvang nie.
Pumba kan nie saam winkel toe stap nie. Die Engelse het ‘n uitdrukking van ‘n
“Blue Bull in a China shop” of so iets, maar ons kan met reg praat van ‘n
boerboel in ‘n Sparwinkel. Dit deug nie.
Om ‘n idee te gee.
Soggens vroeg skryf die uwe ‘n paar nuusberigte vir ‘n plaaslike
gemeenskapsradiostasie. Dit beteken vroeg oggend straathoek toe stap om die
Volksblad te gaan koop.
Op die oomblik is dit nog donker teen daardie tyd, maar binnekort gaan dit weer
’n geval wees van “die oggendstond het ryp op die grond.” Want dit word
soggens eers weer warmer lank na die son sy noordelike draai gaan maak het.
Maar die Vrystaatse koue sê vir Pumba niks as dit by stap kom nie. Dis haar
lewe.
Die prosessie is al heel bekend in ons woonbuurt. Die uwe met Pumba aan ‘n
ketting, maar dit lyk meer soos ‘n groot weergawe van ‘n weed eater. Ek in die
middel, met ‘n fris boerboel wat aan die ander punt van die ketting met ‘n wye
reeks aktiwiteite besig is.
Dit sluit natuurlik die lees van al die boodskappe teen al wat lamppaal en boom
langs die pad in. Witgerypte slagysters kom ook aan die beurt. ‘n Wegneemetes
se bene beteken ‘n skaars voelbare pluk aan die ketting, en dan hoor ‘n mens
net knars-knars (presies twee byte) en die been se stukke word ingesluk.
Vroeë bus- en taxi-passiesrs kry ook vroegoggend oefening. Teen die tyd wat
ons die straathoek haal, kom die meeste reeds van die lamppale af waarteen
hulle opgeskarrel het, en is daar ‘n stroom terug van die oorkantste sypaadjie.
Geen wonder die mense het so vir Zuma gestem nie. Danksy Pumba het ‘n hele
aantal “close encounters of the first kind” met sy glimlaggende bakkies op die
lamppale gehad.
Pumba het nou al ‘n mate van onderskeidingsvermoë. Sy weet sy mag nie
mense op straat aanval nie, maar skynstormlope is tot ‘n fyn kuns ontwikkel. Sy
sal naamlik sorg dat sy aan my anderkant as die slagoffer is, en dan skielik storm
net voor die persoon binne die ketting se reikwydte kom. Met die verbygaan het
sy ‘n spesifieke grom wat vir my die boodskap laat kry dat ek my moet anker.
Dan spring daai brak sodat sy min of meer kophoogte tot stilstand kom, en
grommend tande in die slagoffer se gesig klap.
Dis ‘n woeste makeer.
Maar dan is daar die klein bokkiebrakkies net om die straathoek waar ek
gewoonlik die Volksblad koop. Of dit is omdat dit ook die pad na die veearts toe
is, weet ek nou nie, maar daai brakkies skraap sy met mening. Dan span sy haar
viertrek behoorlik in en sleep my na hartelus rond.
Maar dis nou die koerantkoop wat self in ‘n fyn kuns ontwikkel is.
Stap 1. Naby die verkooppunt moet ek Pumba met die regterhand agter die
kraag vasvat, en so ver as moontlik van my weghou.
Stap 2. Sit die geld in die linkerhand en strek die arm so ver as moontlik in die
rigting van die koerantverkoper.
Stap 3. Die geld en die koerant verwissel van hande.
Stap 4. Pumba doen ‘n skynstormloop.
Stap 5. Pumba word aan ‘n boom vasgemaak.
Stap 6. Ek tel koerante op wat die wêreld vol gesaai is en vou hulle weer
inmekaar, terwyl die koeranterkoper na sy geld soek.
Daar is verskeie variasies, elkeen ‘n storie op sy eie.
Deesdae gebeur dit al minder dat daar nog ‘n koerantverkoper op die hoek is,
dan moet verder gestap word na die keraats op die volgende hoek.
Dit bied ander afwisseling, soos taxi’s wat nie mooi kyk nie, en net voor ons gaan
stilhou met passasiers wat reg voor Pumba se neus uitpeul.
By die keraatskafee sal mens waaragtig klante sien wat ons sien aankom, en
dan versnel om vóór ons in die kafee in te kom. Wanneer Pumba inkom, bondel
die personeel, petroljoggies en klante saam agter die toonbank in.
Maar nou verlang daai brak vreeslik na haar kleinbasie., want ‘n kruisiging het
baie liefde nodig.
Foto: ‘n Verlangende Pumba op “haar” bed.
Herrie se kerrie: Só bid mens vir strome reën
“Reën is ‘n gawe van Bo,” sê Benban se pa uit die kamer waar hy weer ‘n rukkie
gaan skuins lê het.
Hartversaking. Dis oor die sukkelhart dat hy met sy jong vrou en kind uit die
Noordweste uit moes trek hier na Bethlehem toe waar dit nie so warm soos daar
op die Knersvlakte raak nie.
Benban en sy ma sit by die eetkamertafel saam met dominee Jan, wat kom
huisbesoek doen het. Hulle praat harder of gedemp afhangende van of die oom
moet hoor. Dis ontstigtelik om hard oor die gewisse naderende dood te praat.
“Wat dink dominee gaan die reën die somer maak?” het Bendan se ma flussies
gevra – “So met El Nino wat weer inskop”. Dis nog winter, maar as daar nou ‘n
ding is wat ‘n Namakwalander se gedagtes weg van doodspraatjies kan vat, is dit
reën of ‘n gepraat oor reën.
“Ja, broeder” antwoord die dominee in die rigting van die oom se kamerdeur.
“Maar ‘n mens moenie skaam wees om te bidde nie.”
“Laat my dink,” vervolg die dominee.
“Jare t’rug was ek leraar en herder by ‘n regte klein plattelandse gemeente. Daar
had ek so sônne met die boere wat aljimmers hul biddae vir reën op Woensdae
wou hou, wanneer die kerkprogram eintlik klaar vol was, maar Sondagaande met
die aanddiens wanneer dit nou ‘n gawe tyd is vir so ‘n biduurtjie in te werk, dan is
die hele lot obsent.”
“Gevaarlik nou met die plaasaanvalle om na donker by die huis te kom...” steun
Benban se pa uit die kamer.
“Almiskie,” sê dominee. “Maar destyds was plaasaanvalle nog eintlik onbekend.
Ewewel, eendag is oom Soois weer erg orig oor ‘n biduur vir die Woensdag, en
ek skop vas. Sondagaand sal dit Sondagaand wees, en hy en sy maats sál daar
wees.
“En Sondagaand, daar was hulle toe ook in die kerk. Lyk sommer op sig dikbek.
“Toe dit tyd is vir bid, vlieg oom Soois eerste op. Was altyd half ‘n platjie, al was
dit soms maar aan die growwe kant.
“ ‘O Heer’,” bid hy, ‘domineesgoed het nou so mooi uit die Bybel gelees en gebid,
U kan dit gerus maar goed laat reën.’
“Die Maandagoggend toe die mense kop optel, toe reent dit ...strome uit die
hemel uit. Hierna was daar nooit weer ‘n debat oor wanneer die biduur moet
plaasvind nie. Sondagaande met die biduur vir reën was hulle almal daar.”

Laag vlieg, diep teug


Herrie lees van ‘n gesin wat in Duitsland na ‘n lugskou gaan kyk het, toe een van
die deelnemende vliegtuie hul motor getref het.
Herrie het ‘n paar keer in sy lewe die bitter van ballingskap beleef – om vir
werksdoeleindes in Sodom en Gamorra te moes gaan woon.
Op een van die paaie naby Pretoria is daar kort-kort ‘n bordjie: “Pas op vir
laagvlieënde vliegtuie.”
En soos taks wonder Herrie – wat maak ‘n man nou as daar skielik ‘n vliegtuig
laag aankom? Die kar kan mos nie soos ‘n mens of ‘n fiets platval nie.
Hoekom vliegtuie nou juis so laag wil vlieg weet Herrie nie. Net ‘n lugsakkie, en
die klaar met kees. Soos die slag toe oom Nico by ‘n Sampie-oesdag – toe nog
buite Bloemfontein gehou – saam met een van die vlieënde cowboys ‘n rit gaan
onderneem het. Toe duik die ou, en toe oom Nico sy oë oopmaak na die vliegtuig
weer horisontaal begin vlieg het, toe kyk hy op na die mieliekoppe! Lugsak
geslaan.
Daai dag, sê oom Nico, het hy gesien die propeller is NIE daar om die vlieënier
koel te waai nie – daai ou het iets vreesliks gesweet. Veral so by die sitplek rond,
hy moes skoon gaan droog aantrek.
Bethlehem het ook sy gereelde lugskou, maar Bethlehem se vlieëniers is darem
eerder vir mediese noodreddingsvlugte in die nuus as vir ongelukke. By
Herriesmith, egter, was daar ‘n konsternasie toe ‘n weermaghelikopter ewe
kontant by ‘n wegneem-eteplek kom land het en met die wegneemetes vort is.
Die ergste was seker maar toe oom Sopie die oggend al te vroeg afgesien van
sy eie, ‘n geleende ry spore ook gestap het. Toe gewaar hy die buurman se
seun, Stiaan, met sy hangsweeftuig van die berg af kom, en trek met die 303 los.
Die seun verkas uit oom Sopie se lugruim, maar ‘n halfuur later is die polisie
daar.
“Jis,” vertel oom Sopie, “ek het so geskrik toe die vreeslike voël met ‘n menslike
prooi hier aankom. Ek het ‘n paar skote geskiet, maar hy wou nie die prooi laat
los nie. Van die skrik het ek toe maar ‘n paar sopies gaan neem.”

Hy stink so lekker want hy drink so lekker


My heerlikste jaar was as kind, was ‘n jaar wat ons gesin in die VSA deurgebring
het.
Ek is dus geneig om Amerikaners dalk met ‘n titseltjie meer deernis te beskou as
wat die Yanks dalk verdien, en my hart is baie seer oor die jong Amerikaner wat
deur die Taliban gevange gehou word.
Maar geen mens kan so subjektief wees dat hy nie tog ‘n era in herinnering kon
roep toe geldmaak in die VSA so maklik moes gewees het dat selfs mense wat
maar yl met grysstof bedeeld is, sakke vol daarvan gemaak het nie.
Swendelaars het naamlik al die Eifel-toring aan verskeie Amerikaanse miljoenêrs
“verkoop” net om die punt te demonstreer.
Spanne van hierdie grysstof-armes het egter genoeg geld gehad om wêreldwyd
rond te rits waar hulle die reputasie gekry het om baie luidrugtig hul
kennisskaarsheid aan die kaak gestel het.
Pa-Jan het byvoorbeeld vertel hoe hy en Ma-Johanna op ‘n toeristebootjie
onderweg was om die wondergrotte van Capri te besigtig, toe ‘n luidrugtige
Amerikaner op die boot wou weet wat hulle dié dag gaan besoek.
By geleentheid werk ek saam met ‘n jong Van den Berg, ‘n storieverteller soos
min, en hy vertel dié ene:
By geleentheid word Van den Berg ‘n diplomaat, en of dié storie hom met die
gaan of terugkom afgespeel het, het die uwe se skrapse grysstof verlaat.
Nietemin, op die vliegtuig sit die gesin Van den Berg met die kroos in die ry
sitplekke teen die vensters. In die middelste ry sit ‘n grootbek Amerikaner en sy
vrou alleen in ‘n hele ry sitplekke.
Toe dit slaaptyd is, slaan Mev. Yank haar sitplek op die punt van die ry agtertoe,
en is gereed vir slaap. Die man trek sy skoene uit, en gaan lankuit in die oop ry
met sy sokkies op vroulief se skoot.
Iewers deur die nag word die Van den Bergs wakker gemaak deur hul klein
dogtertjie, wat breed glimlag en vertel sy was badkamer toe en het dit SELF
gedoen. Van die SELF wat in die haartjies sit, en agterop die hande, verklap
egter dat dit nie so ‘n suksesvolle uitstappie was as wat die kleinding gedink het
nie. Pa en ma sit af toilet toe, kleinding onder die arm.
En so met toiletpapier en watertjies is kleinding so presentabel as moontlik
gemaak, en ma span mildelik parfuum in.
Die vloer word met toiletpapier skoongemaak, en teruggesluip sitplek toe voor
iemand anders van die uitstappie en die betrokkenes se identiteit iets wys word.
Net betyds.
Skaars is sit gekry, of die Yank strek luidrugtig, en swaai sy bene af grond toe.
“Now what?” wil Mev. Yank weet, hard genoeg dat amper almal wat wakker of
amper aan die slaap was kan hoor.
Die reaksie was egter luid genoeg om selfs ‘n paar dooies te wek: “Wow, I have
a huge *&^!” Die ruim inneem van likiede bates voor slaaptyd praat toe kliphard.
En so sit hy af longdrop toe, en die Van den Bergs krimp by voorbaat ineen.
Na ‘n ruk is ta terug, en baie verlig maak hy al die gepaste geluide om sy
verligting bekend te maak. Die sokkies is terug op vroulief se skoot...
Maar na ‘n ruk vlieg Mev. Yank se oë wawyd oop. Toe wriemel die neus, en toe
is sy ook baie, baie verbaal: “My George, your feet!” kryt sy dit uit.
George vlieg regop: “What’s wrong with my feet?!”
“Sis, they STINK!”
George gryp sy een gekousde voet met beide sy hande beet en trek sy voet so
na as wat hy kan aan sy neus. Heel onnodig naby, blyk dit. Hy skiet sy voet
verwoed weg.
“Gee! You are right, they do STINK!”
‘n Feit waarvan bykans die hele Jumbo vol mense toe al deeglik kennis gedra
het.
Spoel juffrou se mond met seep uit
“Sien die humor raak.”
Dit is die raad wat ouers van outistiese kinders kry. Die rede is doodeenvoudig –
as die ouers nie die humor kan raaksien waarvoor ook hul kinders, soos ander
kinders, sorg nie, sal die ouers dit self nie maak nie.
Natuurlik, geniet die humor met deernis.
Klein Herrie lewer ook sy kwota humor op.
Gisteraand sit Herrie saam met ‘n paar ander ouers van outistiese kinders om ‘n
tafel en sit koppe bymekaar oor hoe om Vrystaat Outisme se webwerf verdere
inhoud te gee. Een van die hofies ter sprake, is sosiale stories. Die kwessie van
humor kom ter sprake, so saam met die probleem om iets abstrak soos
godsdiens aan ‘n outistiese kind, wat dikwels boonop beperkte taalvaardigheid
het, te leer.
‘n Egpaar teenwoordig se seuntjie ly aan Asbergers. ‘n Bekende lyer hiervan is
Daantjie Dinamiet, die man wat eers Noot-vir-Noot oorrompel het, en daarna ook
as die land se beste flinkdinker gekroon is. By Asbergers is die
taalvaardigheidsprobleem gewoonlik grootliks afwesig.
Die kind se ma vertel by die kleuterskool lees die juffrou uit Knikkie, wat die
knapie ontstel, want Knikkie se naam is eintlik Noddy, en Noddy is Engels. Dus,
so ver soos juffrou lees, so vertaal hy dit in Engels. Tot juffrou daar kom waar
mnr. Vonk aan Knikkie se kar moet werk: “Juffrou, dis ‘n baie baie lelike woord
daardie,” betig hy ontsteld.
Dié kind, so blyk dit duidelik, word baie mooi grootgemaak.

Goue reklamefoefies
In die anale van die geskiedenis gaan die Noorman, Erik die Rooie, as die
reklameman van alle eeue op. Erik het naamlik die ys-eiland, Groenland, dié
naam gegee om koloniste te lok.
Deesdae wonder baie mense of dit heeltemal so ‘n foefie was, want dit blyk dat
Groenland se klimaat destyds heelwat warmer was as nou. Trouens, dit het
intussen danksy aardverwarming intussen weer begin so warm word as destyds,
met die gevolg dat die Groenlanders in ‘n referendum vir groter outonomie van
Denemarke gestem en gekry het. Vanjaar, so meen hulle, kan hulle aartappels
plant.
Miskien moet die titel van reklamefoefie van alle eeue eerder Erik se seun. Leif,
te beurt val. Van die vroeë ontdekkers het ‘n duisend jaar gelede Amerika (min of
meer die kus van Labrador), Vinland gaan noem. Vinland beteken Wynland.
Dié naam het dié landstreek gekry omdat dit, soos die anale en sagas lui, plate
en plate wilde druiwe gehad het. Vandag is bewys dat die Nordiese kolonies aan
die kus van Vinland feit en nie fiksie is nie, maar dié kolonies het in die slag gebly
toe Groenland minder groen en meer ys geword het.
Daar sal dus nooit met sekerheid vasgestel kan word of Leif ooit werklik die
Vinland Droog op die mark geplaas het, wat later na Canada Dry afgewater is
nie.
Maar al is die oorblyfsels van minstens een so ‘n kolonie gevind, krap geleerdes
steeds kop – daar is net mooi geen teken dat daar ooit wilde druiwe in daardie
geweste gegroei het nie, laat staan nog plate daarvan.
Maar Herrie kan dink – loop noem nou ‘n nuwe ontdekking “wynland” en ‘n
taamlike groot deel van die wêreldbevolking sal geïnteresseerd wees om
soontoe te verhuis...sommiges selfs desperaat wees om te versit na so ‘n land
wat vloei van wyn en heining.
In die praktyk, so lyk dit vir Herrie, is dit eintlik goud wat mense laat verhuis – met
goudstromlope na Barberton, die Rand, Australië en Kalifornië.
Gesels oupagrootjie De Necker en ‘n buurman een aand so oor die grensdraad.
Die maan het opgekom.
“Wonder of daar goud op die maan is?” mymer oupagrootjie.
“Ek glo nie,” sê buurman, “want anders was die Engelse al lankal daar.”
Miskien sit Lunar Gold PTD Ltd se reklamemanne net en slaap.

Makataan-oktaan
Herrie lees onlangs Amerikaanse navorsers meen die Tier in die Tenk is dalk in
waatlemoene opgesluit.
In plaas van mielies vir etanol gebruik, kan bitter baie woema uit waatlemoene
gehaal word. Natuurlik het die Suid-Afrikaanse joernaliste, soos al baie ander
mense wat Amerikaanse wyshede in Afrikaans wou weergee, “corn” met “koring”
loop vertaal. In ‘n ensiklopedie lees Herrie byvoorbeeld van die “Cliff dwellers”
wat so verwoed “koring” geplant het voor Columbus nog voet aan wal gesit het.
Soos ons weet is “sweet corn” groenmielies.
Ewenwel, die Amerikaners meen daar gaan elke jaar in hul land miljoene
waatlemoene verlore omdat hulle misvorm is, of vlekke het, en dus nie op die
mark die paal haal nie.
Onnosel Amerikaners, mens eet mos die binnekant!
Nietemin, waatlemoene kom oorspronklik uit Suider-Afrika, en mielies wat so in
Afrika ‘n stapelvoedsel is, kom uit Amerika. Die Russe se tradisionele drank,
Vodka, word glo uit aartappels gestook, en kom ook uit Amerika. Ook die
“kartoffelen” van die Duitsers se Schweine Fleisch und Kartoffelen-faam is nie
oorspronklik Duits nie, maar tel onder die horde alledaagse eetgoed wat die
Indiane baie eeue gelede geteel het.
Maar die plan van die tier in die tenk met waatlemoene sit Herrie en Oupa Nic
aan’t gesels. Hier in ons land is nie noodwendig ‘n surplus waatlemoene nie,
maar ons eet nie die skille nie. Ook eet ons nie die waatlemoen se familie, die
karkoere, tsammas en al die basters tussenin nie, en as mens iets wil plant vir ‘n
tier in die tenk is makatane dalk net die ding – dis is groter, en groei onder veel
meer marginale toestande, en word ook nie so erg gesteel nie.
Om karkoere te gaan bymekaar maak kan dalk ‘n hele span werksgeleenthede
skep.
Nou is Herrie darem heel bewus daarvan dat dit proe of karkoere en makatane
minder suiker in het as waatlemoene. Maar Herrie onthou sy skoolwerk. Op skool
wou Herrie g’n niks glo aalwyne is propvol suiker nie. Het Herrie gedink, daai ou
wat beweer aalwyne is vol suiker, het vir seker nog nie aan ‘n stuk aalwyn gaan
proe nie. Maar Herrie het die argument verloor, al had Herrie ‘n oupagrootjie wat
‘n diabeet was, en elke dag ‘n glas aalwynsap gedrink, en dan die heel dag geëet
het net wat hy wou. En daai oupagrooitjie het al sy gesonde tydgenote oorleef en
‘n flink ent in die 90 geword.
Dus sal Herrie nou nie stry dat die makataan-oktaan, of karkoer-mo*r nie so
lekker soos waatlemoena-woema sal proe nie, maar die gewone mens wil
daarmee ry, nie drink nie.
Natuurlik sal daar ‘n drinke-aanvraag vir makataan-oktaan wees. Jare gelede
kom oom Rons by ‘n kuipery. Eenkant loop die moes met die doppe en pitte in ‘n
geut weg, so sterk gegis mens hoor dit amper sis. Toe kom een van die kuipers,
en vat ‘n groot skep met sy blikbeker, en slaan dit weg.
Toe die stoom klaar uit die man se neusgate en ore gefluit het sê oom Rons vir
hom: “Jis, maar jy drink sterk goed!”
Die man gloei van trots. “Dza, ek soekkit stêk. Ma ek drink ook petrol. Ma dan
moerrit BP wees.”

Die spoor byster, of doodgewoon rigtingbedôn*rd te wees


‘n Paar voorvalle het die uwe tot die gevolgtrekking laat kom: Hoe minder mense
‘n sin vir rigting het, hoe eiewyser raak hulle.
Nou is dit ook so dat Herrie al by ‘n paar plekke die rare ervaring gehad het van
rigting wat omkeer.
Jare der jare gelede, nog ‘n jongerige verslaggewer by Volksblad, word verneem
van blyplek vir die vakansie vir ‘n student, ‘n beurshouer. Hy kom van Pa-Jan se
buurdorp in die Noordweste af.
Herrie bied aan, en uiteindelik word dit aanvaar.
En toe, ‘n dag of twee voor die groot arrivasie bel die knaap se pa uit die
Namakwaland uit, om nou na die roete te verneem.
Dis maklik. Op die verbypad, draai by (destyds) die Kimberley-afrit af, ry is stad
se kant toe, en draai by die eerste straat links, die tweede regs en tweede links.
en siedaar.
Maar ek kon netsowel gesê het: Soos ‘n mens Amerika inkom, draai eerste straat
links.
“Hoekom nei die tweede straat links nie?”
Die pa is nog by die eerste straat se afdraai.
“Want daai straat maak ’n boog en kom by Timboektoe uit.
Dus moet die uwe weer voor begin.
Maar skaars is by die eerste straat gelinks, of die pa wil weer weet hoekom nie
by die tweede straat links nie.
Nou begin die geïrriteerdheid inkruip.
Weer beduie daai straat gaan heel elders heen, ek sig selwers weet nie eens
mooi nie.
Moet weer voor begin. Die keer vorder ons by die tweede keer se afdraai, maar
toe neek die Namakwalander weer terug na die eerste. Hoekom nie die tweede
nie?
Toe verêrre ek my en beduie die strate en ignoreer die terugkrabbel en
bevraagtekening. Wie is dan nou besig om die pad te beduie?
Uiteindelik is die beduie klaar, en ‘n heel eenvoudige werkie het ‘n halfuur se
geswoeg afgegee.
Maar dit was nie die einde nie. Destyds was selfone nog nie op die horisonne
nie, en ‘n tiekieboks by ‘n keraats iewers op die verbypad word gebruik.
Wil net gou weer vir oulaas hoor hoekom nie die tweede straat links nie.
“Want die pad kom nie by my uit nie.”
Hoekom dan nie?”
“Want dit maak ‘n boog en loop neek heel in ‘n ander koers in.”
En toe word gewag en gewag en gewag. Ure.
Uiteindelik is die gesin, met ouboet van Pretoria agter die stuur, daar.
Daar word afgepak.
“Ons het verdwaal,” sê die pa erg verwytend.
Ek skrik. Hoe so?
Ons doen gou hersiening. Hoe het hulle gery. Nee, by die tweede straat links
loop draai.
“Maar ek het dan gesê die EERSTE straat links.”
“Ja, maar ouboet het gereken dit sal makliker wees by die tweede....
Ek het my rug op die storie gedra. As ‘n donkie sy kop so oor en oor wil stamp wil
ek geen deel hê nie.
Maar dit was net die begin. Namate ek Jongboet leer ken het, het ek agtergekom
daai gesin het g’n sin vir rigting nie. Trouens, hulle is almal heeltemal
rigtingbedô***rd.
As Jongboet iewers heen vir ‘n storie moet gaan, moet daar ‘n kaart in detail
geteken word. En soos die kaart geteken word, so sal hy wil weet hoekom kan hy
nie maar hier al links draai nie (eenrigtingstraat, of die straat waar hy wil in neek
loop dood of maak ‘n winkelhaak in ‘n ander rigting in) sodat elke sending ‘n
helse lang missie word, net in die kaart teken en beduiefase.
En waaragtag soos taks verdwaal hy. Want hy glo blykbaar net nie die straat
gaan doodloop, of ‘n winkelhaak maak nie, Hy MOET in waar hy aangesê is om
nie te in nie.
Te gaan aflaai werk ook nie heeltemal nie. Laai hom voor die gebou af, kyk hy
die hele gebou mis en gaan soek dit aan die oorkant. Tussen die kantoor en
aflaai is sy rigting al heeltemal omgedraai.
Toe is tannie SC in ‘n ongeluk in Bloemfontein, en mense van Parys (die een in
die Transvaal, nie die een in Engeland nie) moet haar kom haal. (Bygesê, tannie
SC het die vorige aand self verdwaal).
Die pad word haarfyn beduie vir die aankomelinge.
En net daar het ek ‘n knou met die Lotto weg.
Want in plaas van op die verbypad hou, neek hulle by die eerste afrit in, en sit
Groot Herrie vergeefs by die verbypad en wag.
En toe begin die selfoonoproepe, want die aankomelinge weet nie hoe om weer
terug uit te kom van waar hulle in loop in bliksem het nie, en Groot Herrie ken
daardie deel van die stad glad nie.
Uiteindelik is hulle so oor die selfoon tot by mekaar genavigeer, en tot by die
huis.
En hier kan daar nie gerus of geduurte gekry word nie, want daar moet nou
gelotto-kaartjies gekoop word.
Dis maklik. Straat op tot waar die straat doodloop. Regs, en die winkelsentrum is
aan die linkerkant. Herrie loop gewoonlik soontoe, so naby is dit.
Maar die aankomelinge bly seker twee uur weg. Groot Herrie, wat ‘n meisie
uitgeneem het en vir haar gaan sjokolade koop het, kry hulle by ‘n ander
winkelsentrum. Soontoe en terug in hulle se maai in geverdwaal.
Nou hoekom, as mens nie rigting het nie, dan nie by die naby een waar ‘n mens
heen gebeduie is gaan lotto-kaartjie koop nie.
Omdat hulle is daardie 150 meter en een keer se regsdraai by ‘n T-aansluiting,
daarin geslaag het om te verdwaal.
Maar dit was nie die einde nie. Die terugrit Parys toe neem ses in plaas van drie
ure, want die spannetjie (al vier) in die kar het in Langehovenpark (waar die uwe
woon) verdwaal. Ure gesukkel om uit die woonbuurt uit te kom.
Ook weer nie by die pad wat beduie is, gehou nie. Maar dit was ook die eerste
keer dat tannie SC in Langenhovenpark verdwaal het, seker van die skrik van die
vorige dag se ongeluk.
Herrie moet net byvoeg: In Bloemfontein help dit nie om straatname te gee nie.
So het Herrie al self sleg geverdwaal, want in Bloemfontein word
straatnaamborde gesteel so vinnig gesteel soos dit opgesit word.
‘n Paar weke gelede bel ‘n ou Bloemfontein-ingesetene, wat darem al ‘n hele ruk
see toe verhuis het, en vra pad namens ander mense wat iets moet kom oplaai.
Mev. Herrie beduie, en die uwe hoor en raak later geïrriteerd. Weer die oor en
oor verduidelik hoe by die eerste, en nie by die tweede nie,en so aan. (Herrie bly
lank nie meer in die woongebied waar hy in sy Volksblad-dae gewoon het nie).
Die volgende dag word weer gebel, want daar is ‘n paar stukkies wat nie
verstaan word nie (wat is te verstaan aan eerste straat links, tweede straat
regs?”
Die mense vir wie uitgevind is, het nog nie hul opwagting gemaak nie.
Toe tref ‘n heel nuwe ons.
Die ou tannie kan glad nie bestuur nie, en haar seun wat by haar woon kan weer
glad nie lees nie.
Nou het die seun ‘n afspraak in Toerienstraat.
Toerienstraat is wel die kortste straat in die stad, en half weggesteek, maar net ‘n
katspoegie van die pad af wat die tannie en haar seun elke Sondag kerk toe ry.
Mev. Herrie beduie pad.
Oor en oor. Oor en oor.
‘n Para uur later word weer gebel. Daar is ‘n paar plekke wat nie verstaan word
nie.
Weer oor en oor beduie. Oor en oor.
Die volgende oggend bel sy weer en Herrie antwoord. Maar Herrie het nou al
beide die vorige belstories aangehoor.
Dit het in kort behels:
“Daar waar tannie-hulle Sondae op pad kerk toe anderkant die brug regs draai,
hou net reguit aan. Draai dan die eerste straat regs. Dit maak ‘n T-aansluiting
teen nog ‘n straat, en draai weer regs. Die eerste straat links is Toerienstraat.
Niks te verstane nie, dis die pad. Fienies en klaar.
Herrie beduie, maar is Herrie by stap twee, is die tannie terug by stap een, en
kan haar eie handskrif nie uitmaak nie.
Herrie besluit dit kan nie so aangaan nie. Daar is mos die keraats daar langs die
pad kerk toe. Laat Pietie by die keraats pad beduie. Daarvandaan is dit maklik.
Die middag, middagete, dieng dong die klokkie. Dis Pietie. Hy verstaan nou niks
van die padverduidelikery nie.
“Ry na die keraats en vra daar die pad.”
“Reg oom, ek verstaan.”
Of Pietie Toerienstraat gekry het?
Weet nog nie.
Die tannie het nog nie laat weet om dankie te sê nie.

Die snottel tot die geskiedenis


Herrie het nou onlangs weer oor die Voortrekkers se aanloop, en die een en
ander van die Groot Trek self opgelees. Hoe ouer die bronne, hoe interessanter,
want dit reflekteer feite soos dit was voor die politici en ander eiertjies kom lê het.
So met die jare het die aantal nie-wit mense in die laer van Bloedrivier al minder
en minder geword, nadat dit aanvanklik omtrent gelykop was. Swart
konsentrasiekampe het in ‘n stadium opgehou bestaan.
Waarop Herrie eintlik afstuur, na die Groot Trek het die Engelse sendelinge en in
‘n mate die Britse regering voorgehou dat die Trekkers hul goed gevat en geloop
het omdat hulle kwaad was oor die vrylating van slawe.
Lees ‘n mens egter Retief se Manifes wat in die Grahamstown Journal verskyn
het, kry ‘n mens ‘n goue draad wat deur Retief se uitsprake met sy verkiesing tot
Voortrekkergoewerneur en die Gelofte loop. Dit lyk heeltemal anders as dit wat
soms in die geskiedenisboeke pryk. Respek vir almal, voornemens om
vreedsaam grond te bekom, die Christelike geloof die kontinent in te dra...
Verhale van boeregesinne wat saans huisgodsdiens gehou het met al die
plaaswerkers en hul gesinslede saam in die vertrek gepak, is volop.
Die Voortrekkers se grondwet het die unieke inskrywing gehad dat hulle niks met
die Engelse sendelinge uit te waai wil hê nie.
Natuurlik was daar die vrot appels.
En natuurlik was daar die latere politieke gedokter. So het die werklike verhaal
oor hoe Bloemfontein sy naam gekry het, in die volksmond verlore geraak. So is
vergeet dat die beroemde geskiedkundige Theal-McCall lank voor mev. Brits se
“Bloemmetjies” by die fontein al geskryf het Bloemfontein het sy naam te danke
aan Jan Bloem, ‘n Korannahoofman.
Noudat gelol word om die naam te verander, is dit baie nuttig om te bewys Jan
Bloem is die eintlike herkoms.
Maar na al die jare van naby en naas mekaar leef, is daar steeds interessante
verskille.
Herrie se oom, oom Nico, het op die plaas Merino geboer. Hy kon sy hele
bestaan op die plaas voor hy in die stad gaan aftree het, nooit die werksmense
kry om van Merino te praat nie. Dit het Merina gebly.
Oupa Nic en Ouma Engela het darem hul plaasmense so ver om van ‘n “sleutel”
te praat, maar die trekkers sal tot in lengte van dae “snottels” hê.
Die evangelis by Floradale sal seker ook altyd die “Evangelie” wees.
En hierin, so dink Herrie, is die snottel van die toekoms in opgesluit.

Konstabel en die bitter koffie


Herrie gaan bietjie vaag wees oor dele, maar die liewe leser, soos Langenhoven
sou sê, sal na afloop van die lese hiervan verstaan hoekom.
‘n Klompie jare gelede begin ‘n nuwe konstabel by ‘n polisiestasie op een van die
klein plekkies naby Bethlehem, bedoelende nou plekkies in die orde van
Slabberts. Kaallaagte en so aan.
Die sersant neem die jong konstabel in die distrik om, sodat hy die plaasmense
kan ontmoet, en hulle ook van hom weet, soos die gebruik toentertyd was.
Dit is in een van die opstalle, waar die twee in die voorkamer wag dat die vrou
des huises die koffie berei, dat die jongman ‘n blik tot in die spens kry, wat die
sersant nie het nie.
En van hier sien die konstabel hoe die tante met die vlieë en die brommers en
die melk en so aan omgaan.
Toe die koffie kom, bedank die konstabel melk en suiker vir sy koffie, en drink dit
so swart en bitter.
Hy drink dit altyd so, verduidelik hy.
So met die wegry vra die sersant hom hoe dan nou? By al die ander plase het hy
wit koffie met suiker gedrink.
So beduie die konstabel wat hy gesien het.
“Stop, stop!” skree die sersant, en die konstabel het die vangwa ook net betyds
tot stilstand gerem, of die sersant val hande viervoet by die trok uit en raak van
die koffie ontslae.
Wat Herrie aan Pa Jan se grootmenswêreld in die Namakwaland in laat dink
waar domineegoed loop huisbesoek doen het, en by elke opstal ‘n heerlik
kommetjie (amper so groot soos die plaas se sinkdam) gaat gekry het. Sterk die
lepeltjie kantel so staarig om.
By die siffelste huis kan hy nie meer nie, en die toe tante loop beskuide haal, trek
hy die skuifvenster op, en slinger die gaat op die Namakwalandse blommetjies
buite. En daar sta’ hy net merrie die oortjie innie hand.
Toe die tante merrie beskuide ingewaggel kom beduie hy net hoe die tante by
daai deur - een hy beduie na die middeldeur - uit is, toe loop val hier net so ‘n
groot brommer - en hy beduie met die duim en wysvinger met ‘n verdag groot
spasie tussenin – in die gaat. En dis toe hy dié spjeuletjie by die venster
uitneu...uitgooi, lat hy nou die skade kry.
Vir die skrik maak die tante toe vir hom ‘n kommetjie ekstra sterk gaat.

Die mure van Jerigo


Terwyl die amper-mense (die jonges) meen die “ou mense weet niks” is dit ‘n
gevoel wat erg wedersyds is.
Ouer mense het al amper ‘n handleiding nodig om koerant te lees, om te weet
die “sitplekke” in die parlement verwys eintlik na setels, en as mens radio luister,
te weet Nêsa is eintlik Nasa.
Baie keer is dit Engels se skuld. Daar waar Ma Johanna toe sy met die skrywer-
digter Barend Toerien (‘n neef van wyle pa-Jan) getroud was, so ‘n honderd myl
noord van New York gewoon het, is die tekens van die eertydse kolonie Nieu-
Amsterdam nog duidelik. By Kerhonkson is lank volgehou om kerk in Nederlands
te hou, maar so ‘n geslag terug is die handdoek ingegooi toe ‘n dogtertjie by haar
ma wou weet wie die Het Evangelie nou eintlik is waarvan sy Sondae so baie
hoor.
Maar presies hoe erg die onkunde al loop wat niks met die Rooi Taal te make het
nie, hoor Herrie onlangs.
‘n Vakadviseur (‘n skole-inspekteur vir die oningewyde manne met die silwer
slape) besoek ‘n skool. Hy sit ‘n ruk in die klas en is teleurgesteld met die
oppervlakkigheid waarin die klas aangebied word. Hy besluit hy toets bietjie
algemene kennis, en begin sommer by die Bybel.
“En toe, knapie,” en hy wys ‘n seun in die middel van die klas uit, “wie het die
mure van Jericho omgegooi?”
Die mannetjie steier regop, doodsbleek.
“Toe, toe man, wie sê jy het die mure van Jericho omgestamp?” por die
inspekteur.
Skielik bars die knaap in trane uit. Die verslae inspekteur draai na die
onderwyser, en dié verweer gou: “Meneer, dis ‘n ordentlike seun en as hy sê dis
nie hy nie, dan is dit nie hy nie.”
Dis te veel vir die inspekteur, en hy stoom skoolhoof toe, onderwyser vervaard
agterna.
“Meneer,” sê die inspekteur, “ek vra ‘n mannetjie wie die mure van Jericho
omgestamp het en hy begin huil...”
“Dit was Kosie meneer,” kry die onnie ‘n woord in.
Die skoolhoof krap kop. “Meneer, sê hy op laas. Kosie se ouers is sulke
vooraanstaande inwoners van die dorp, dit is veel beter om die ding dig te hou.
Ek sal met Openbare Werke reël om die skade te kom regmaak.”

Van slawrny, die bul en die arbeidsinspekteur


Oos-Vrystaters sal goed onthou hoe ‘n Johannesburgse joernalis ‘n klompie jare
gelede op ‘n groot aspersieplaas opgedaag het, goed ontvang is en alles van die
oes- en verwerkingsproses gewys is.
En toe met ‘n artikel vorendag gekom het wat die asems laat snak het. Nie net
oor die baie moeilike omstandighede wat tydens die oesproses van veral die wit
aspersie geld nie, maar sommer die lesers ‘n klomp velle oor die oë probeer trek
met ‘n klomp fiksie soos die seisoenarbeiders uit Lesotho wat verkrag word en
vele erger.
Hieraan dink Herrie toe hy in De Telegraaf lees van ‘n Brabantse boerin (ja, die
Nederlanders het nog vroulike vorme vir vroue wat beroepe beoefen) wat veral
Roemeense seisoenarbeiders op haar aspersieplaas as slawe aangehou het.
Dié mense is aan die haglikste woonomstandighede denkbaar onderwerp en
selfs gewelddadig hanteer. Boonop het hulle minder as die helfte van die loon
ontvang as waarop in Roemenië ooreengekom is.
Uiteindelik het die owerhede snuf in die neus gekry, en na die vrou se
hofaansoek om ‘n ondersoek te stuit misluk het, op die erbarmlike groep
afgekom. Terug na die plaas wou hulle nie, en geld vir teruggaan Roemenië toe
had hulle ook nie. Die plaaslike gemeenskap wat deur hul lot aangegryp is, het
tente en toe ‘n bus beskikbaar gestel.
Heel moontlik is daar later ook berigte wat ander perspektiewe oor die saak stel.
Kyk maar hoe gaan dit met die Noupoortse Rehabilitasiesentrum – sommige
oud-pasiënte het net lof en ander is steeds na jare getraumatiseer. Onlangs is ‘n
projek aangekondig om die beeld van Nederlandse boere by die publiek te
verbeter. In ‘n onlangse artikel oor ‘n staproete deur die veld wat met die hulp
van verskeie boere van stapel gestuur is, meld die skrywer ook dat die stapper
waarskynlik op daardie roete eerder op vriendelik wuiwende as “bose” boere sal
afkom.
In Suid-Afrika, met die plaasaanvalle en onteieningspraatjies, is dit natuurlik so
dat boere minder vriendelik oor betreders is wat gou ‘n “ietsie vir die pot” kom
skiet, of sonder toestemming kom visvang.
So lees Herrie onlangs van die wintie arbeidsinspekteur wat sonder nakoming
van die Protokol vir Plaastoegang by ‘n plaas opdaag, en op sterkte van sy
aanstellingskaartjie toegang tot die plaas opeis. “With this card I can go where I
please and no one dares interfere with me,” beduie hy.
Die boer laat hom begaan.
Nie lank nie, hoor die boer ‘n vreeslike gil, en sien die kwaai Friesbul haal vinnig
op die wegsnollende inspekteurt in. Die boer gooi alles neer en hardloop nader:
“Joe kaart, joe kaart, sou de boel jor *&^% kaart!” gil sy.

Roemeense slawe op ‘n Brabantse aspersieplaas op pad na die bus wat hulle


huis toe sal neem: Foto: De Tlegraaf.

Verkiesing verby en nou: Op jul poste, gereed, vreet


Kyk, as daar ‘n ding is wat Herrie se bloeddruk in ‘n ander voorskrif in opjaag,
dan is dit hierdie amptenare wat ‘n groep Afrikaanssprekendes moet kom
toespreek, self uit huis uit Afrikaans, en dan ter aanvang sê, jammer, maar by die
werk word net Engels gebesig en daarom raak die vakwetenskap vir hom
vreemd, en daarom gaan hy nou Engels praat.
Hensopper!
Maar dié verkiesing het Herrie gesien Afrikaans gly – bevind hom op die seë van
golwende veranderings, hier en daar darem tot verbetering. Of soos die Doppers
sou sê, ter stigting.
In die ou dae het die politieke partye verwoed baklei om setels in die parlement
en die provinsiale rade. Met die nuwe Suid-Afrika en die vergeet Afrikaans is ook
‘n amptelike taal, het die Engels se “seats” so dominant geword dat Herrie plek-
plek – ook in die Afrikaanse pers gesien het, hoe Patricia en kie baklei vir
“sitplekke.”
Nou, sien Herrie, gebruik die Volksblad “poste.” Herrie, self ‘n oud-amptenaar
van ‘n politieke party, sou steeds “setels” verkies, want vir elke setel wat ‘n party
kry, kry hy ‘n klompie poste – ondersteuningspersoneel soos skoothondjies
...ekskuus, persoonlike assistente, en sekretaresses, navorsers, mediamense en
so aan. Hoewel hierdie poste uitdruklike politieke aanstellings is, is hulle nie juis
geskik vir “kaderontplooiing” nie want die salarisse is maar karig (of was Herrie
maar net geboor?) en kry ‘n munisipale raadslid byvoorbeeld baie meer vir baie
minder werk. Dis dus nie soustreinposte nie. Nee, hier word die net wyer gespan
en is dit die uitsluitlike prerogatief van die regerende party.
Soos Herrie se jonger boet kleintyd gesê het, Afrikaans het nog ‘n “omgeval”
beleef.
Ai, en hoeveel partye staan deesdae nie “familiewaardes” voor nie, terwyl hulle
eintlik gesinswaardes (family values) voorstaan.
Die vreemde Afrikaanse politiek is nie nuut nie. Op ‘n Saterdag, lank, lank terug
het ‘n Saterdaguitgawe van ‘n Afrikaanse dagblad berig na die Afrikaanse
Nasionale Kongres (ANC). ‘n Pas-afgestudeerde vertaalstertjie se ywer wat deur
al die nette geglip het.
Maar miskien is “sitplek” nie so ‘n slegte vertaling nie. Herrie het al gesien hoe
van die nuwe parlementslede maar vaal sukkel om ‘n nuwe kleretjie vir die
amptelike opening vol te maak. Voor die volgende verkiesing is daai rokkie of
rompie nie net vol nie, maar het plek gemaak vir ‘n nog groter nommer, en ‘n nog
groter nommer tot, so meen Herrie, die klere by Rent– a–tent bekom moet word.
Dis yslike kledingstukke wat so om die boude span. Dit word dan die etniese styl
genoem.
En dit meen Herrie, kom daarvan as ‘n mens sy of haar sitplek in die lewe mooi
vol wil sit, en bloot na ‘n ander komiteekamer versit om weer te sit, en tussenin
aan die eetgoed te smul wat so mildelik voorgesit word dat oud-LP, Kent Durr
(self nie ‘n rietskraal figuur nie) oor die hoë koste van die spysenieringskoste
gekla het. En terstond deur die ander LP’s gesjêddap is.
Nou wil Herrie sy stuiwer (as hy net een geleen kan kry) in die armebeurs werp,
en die spysenieringsmaatskappy aanraai om bietjie die oë oop te hou vir nuwe
LP’s, en onder die skrales te gaan “voor”-foto’s neem, en dan, oor vyf jaar, met
“na”-foto’s op te volg. Die verskil, so meen Herrie, sal so merkbaar wees dat die
spyseniers op slag vir nog ‘n vyf jaar termyn aangestel sal word.
Aan al die nuwe LP’s, dus Herrie se beste wense, maar nou kom skouer aan die
wiel sit: “Op jul poste, gereed, vreet!”