You are on page 1of 25

Mev.

Dokter
Donderdag, 22 April
Oom Cheese het, soos ‘n mens sou verwag, eers by ‘n kaasfabriek gewerk. ‘n
Fabriek in die Oos-Vrystaat wat lank nie meer bestaan nie, in ‘n dorpie waar die
stasie nog net ‘n herinnering is aan die dae toe daar nog gereeld treine
geloop...en in die dorpie aangedoen het.
Toe ek jare later een aand in die dorpie oorgeslaap het, het die hotel nog
bestaan. Danksy die Oog waar die manne wat die mure staande gehou het, die
hotelgaste tot in die vroeë oggendure uit die slaap gehou het.

Oom Cheese se vrou, tannie Stoney, het so ver ons weet nooit by ‘n steengroef
gewerk nie. Nog minder had sy in haar jeug ‘n onbesonnenheid aangevang
waarvoor sy ‘n tyd lank moes gaan klippe kap. Haar nooiensvan was, volgens
oorlewering, Steenkamp.

Maar of tannie Stoney nog kan onthou, is amper moeilik om te dink. Van mens
maar onthou was sy met oom Cheese getroud, en sedert oom Cheese jare
gelede van die aardse smarte bevry is, stap tannie Stoney nou aan om die eeu
vol te maak.

Na die kaasfabriek gesluit het, het oom Cheese en tannie Stoney na ‘n groter
buurdorp getrek, en oom Cheese het as makelaar gewerk om hom uit die kwaad
te hou. Gepas Oos-Vrystaats was hul ruim huis vol Claerhouts en Amenbergers
– ‘n kleurvolle vrolikheid.

Dis by oom Cheese en tannie Stoney wat ek van hierdie latere dorp se eertydse
kleurryke karakter gehoor het. Ja, by hul beide, want so lank was hulle getroud
dat hulle so ‘n storie in aflosse vertel het, elkeen het mooi geweet watter deel van
watter storie het die beste by elkeen se vertelstyl gepas, ‘n kuns wat ‘n mens
meer kere kry as mens mooi oplet. Nou nie daai soort waar die een die storie
probeer vertel, en die ander een hom – ja hom – beterweterig probeer reghelp
nie.

Omdat die uwe ‘n paar minder aangename ervarings met distriksgeneeshere


gehad het, het hul storie vermoedelik gevolg op iets wat ek so in die geselskap
moes genoem het.

Ja, hul dorp het ook ‘n baie kleurvolle distriksgeneesheer gehad. By geleentheid
voel die tuinman olik, vertel hulle, en hulle stuur hom dokter toe.

Nie lank nie, is die tuinman terug, grootoog.

“Daai baas dogter het my sommer deur die baadjie se mou ge-inject,” rapporteer
hy terug. Oom Cheese en tannie Stoney was nie verbaas nie.
By geleentheid ry hulle met kliënte om na ‘n plaas te gaan kyk. Maar oom
Cheese is nie heeltemal seker waar die plaas is nie, en bedink nog waar om te
gaan pad verneem, toe is die “dogter” in ‘n stofwolk by hulle verby. Net ‘n entjie
verder, onder ‘n boom langs die pad, is ‘n “kliniek” en daar sal hulle stellig met
die beduieslag geholpe raak.

Nog half in die stofwolk hou hulle by die “kliniek” stil, en is verstom oor die toneel
wat voor hulle afspeel. Daar staan ‘n ry ma’s met hul kleingoed snotneus op die
arm. Die dokter draf die ry af en so vinnig soos hy beweeg spuit hy. So vinnig,
teen die tyd dat ‘n kleintjie agterkom hy is genaald en ‘n snotpsalm insit, is daar
al ‘n rits na hom ingespuit. Of die naald sommer deur die doek is, en of daar ooit
doeke was, het ek nou volgens my herinneringe nie verneem nie.

Agter die dokter kom sy “apteker” aan, ‘n swart man wat hy in diens geneem het
om pille uit te deel. Agter in die dokter se kattebak was ‘n klomp houers met pille.
Hieruit gryp die “apteker” hande vol en deel uit.

Nou bygesê, ek het ook nie verneem dat die dokter ooit ‘n pasiënt verloor het nie.
Behalwe miskien ‘n paar wie se moed hulle begeef en die hasepad gekies het
voor hulle ge-inject geraak kon word.

En op ‘n dag, daar is die dokter se vrou van baie jare, dood. Maar die grond
anderkant die sipresse het nog molshoop gestaan, toe haak die dokter met die
jarelange klinieksuster af.

En op slag is sy nie meer “suster” nie, maar mev. Dokter.

Maar haar geluk was nie vir lank bestem nie, toe lê die ou dok ook sy kop vir
oulaas neer.

“Van toe af was sy mev. wyle Dokter,” sluit tannie Stoney haar en oom Cheese
se storie af.

Soos gemeld, my eie ervarings van distriksgeneeshere was omtrent dieselfde as


my ervaring van weermagdokters toe ek nog diensplig gedoen het. En die
meeste van ons wat nog voete gestamp het, sal weet dis rof. In die dae voor
daar dienspligdokters was. En soos die geluk dit wou hê, die laaste keer in die
weermag wat ek gewaag het om siek te word, was die weermagdokter nog
boonop ook die distriksgeneesheer. ‘n Dubbele verskrikking dus. En
burgemeester ook, maar darem in die dae voor burgemeesters as ‘n reël ook ‘n
slegte smaak in ‘n man se mond gelaat het.

Maar nou moet ek dadelik byvoeg, ek het goeie distriksgeneeshere geken, al


was hulle nie my dokter nie.

So een was ‘n skoolvriend se pa, dokter Bester. Toe dié pa, soos hulle destyds
gesê het, Medisyne gestudeer het, was hulle drie Besters in die klas. Om hulle
van mekaar te onderskei, het hulle elkeen ‘n bynaam gehad. Hierdie een se
bynaam was “die Goeie Bester".

Heel per toeval het ek nog een van die Besters ontmoet, en so van die byname
gehoor.

By geleentheid vertel die Goeie Bester van sy dae toe hy nog by Wellington
distriksgeneesheer was. Een nag laat, of oggend vroeg, klop die polisie hom op.
By hulle het hulle ‘n man wat effe na drank ruik. Die polisie meen hy het dalk
dronkbestuur, maar hulle is nie seker nie.

Hulle, die twee polisiemanne, het die nag tussen die plase patrollie gery, en toe
stilgehou om bietjie Boeretroos uit ‘n warm fles te drink. En terwyl hulle so blaas-
blaas oor die bekers aan die koffietjie sluk, sien hulle hoe iemand heen en weer
oor ‘n smal plaasbruggie ry. Met die derde oorryslag is die man toe in die reling
vas.

Die Goeie Bester trek toe die bloed, verseël dit en stuur op die trein Kaap toe om
getoets te word.

Die volgende dag bel die eienaar van die boedmonster. Is daar dalk al ‘n uitslag?

Nee, sê die Goeie Bester, maar hy verwag nou enige oomblik die oproep. En, sê
hy, hy het net die gehoorstuk neergesit, toe lui die telefoon weer.

Dié keer is dit toe die vampiere van die Kaap.

“Daai man wie se bloed jy gisteraand gestuur het. Leef hy nog?”

Die Goeie Bester vertel hy het dit al tevore gekry dat iemand se alkoholvlak meer
as twee keer bo die dodelike was, maar nog nie dat die “oorledene” die volgende
oggend al kon gebel het om na die uitslag te verneem nie, al heel nugter.

By geleentheid is daar dienspligtiges opgeroep om hul diensplig in die polisie te


doen, en dan later dertig dae per jaar hul “kampe” in die polisie te doen.

So ‘n knaap is met sy “kamp” besig en terwyl dit stil in die aanklagkantoor is, trek
hy sy boeke nader en studeer. Hard.

“Wat swot jy?” wil die verveelde sersant weet.

“Medies” sê die student.

“Hoeveelste jaar?” wil die sersant belangstellend weet.


“Vierde jaar?”

“O,” sê die sersant, “dan kan jy al as distriksgeneesheer praktiseer.”

“En,” sê Boet wat dié storie vertel, “toe moet hulle die knaap van die sersant kom
afhaal. Want die jongeling se pa is distriksgeneesheer...en burgemeester.”

Ja, dink ek, ek kan eintlik nie die sersant baie verkwalik nie, want ek het al as
hofverslaggewer ervaar hoe eers ‘n lasbrief uitgereik is aan ‘n obsent
distriksgeneesheer om in ‘n dronkbestuursaak te kom getuig, en toe hy steeds
nie opdaag nie, gearresteer en hof toe gebring is.

“Ja,” sê Boet wat self in die polisie was, “ek het self een nag ‘n ou wat bietjie
gedrink het en ‘n ongeluk gemaak het, jammer gekry. Ons moes die
distriksgeneesheer by sy huis gaan opklop. Vreeslik gesuip (die dokter), en hy
het die naald ‘n paar keer heel by die slagoffer se arm verbygesteek. Die
vermeende dronkbestuurder was al erg grootoog en baie wild teen die tyd dat die
dokter hom toe raakgekorrel kry.”

Maar dink ek, daai moeilikheid, so weet ek, sou hulle nooit met Die Goeie Bester
gehad het nie. Nooit.

Ook hy rus nou al anderkant die sipresse. En hy het ook nie ‘n mev. wyle dokter
nagelaat nie.

Bran de Wijn
Deesdae kan aangehoudenes ook stem. Maar stem is nie al wat dié manne kan
doen nie.
‘n Koshuismaat het regte geswot, en vakansies tuis by Worcester gehelp aankla.
Een van sy bekendste “kliënte” was Jafel. Dié het so gereeld in die
beskuldigdebank gepryk, hulle kon daai konstruksie al “Jafel se tafel” noem.
Hoe Jafel aan sy naam gekom het, is ‘n storie op sy eie. Soos die oorlewering
loop, had Jafel ‘n Slamse oupa, Jaffer. Dié naam, het Jafel geërf.
Maar hier in Worcester in val Jaffer half vreemd op die witmense se oor, en ‘n
paar van die manne het, na hulle gesien het hoe vernuftig Jafel ‘n bottel kan kis
maak, hom Jafel begin noem.
Daai storie eindig toe ook nie daar nie. Agter die witmanne aan, het van die bruin
mense hom toe ook so begin noem, maar dit as Dzafel uitgespreek. Dié naam
het weer na die witmanne toe teruggewerk, en naderhand het almal Jafel as
Dzafel uitgespreek.
Op ‘n mooi dag word Jafel weer in die hof ingebring. Dié stap twee rye spore, en
kan nie aangekla word nie. Die tweede beskuldigde word ingebring, maar hy het
duidelik ‘n soen van die dame met die lang nek weg. Ook die derde is erg
gekoring, terwyl die vierde duidelik ‘n dinee van Bachus bygewoon het.
Uiteindelik moet al die sake van die manne wat in die selle was oorstaan. Op ‘n
manier het van Worcester se spogprodukte in die selle beland.
Die volgende dag is dit of die aanklaers dubbel sien, want dis presies dieselfde
storie.
Derde dag was egter skeepsreg. ‘n Sersant word betrap waar hy
koeldrankstrooitjies aan die manne in die selle verkoop. Met dié strooitjies
gewapen, kan hulle deur die venstertralies tot in die geut buite bykom, en dié is
soos Sasol se spreekwoordelike pype vol brandewyn. Nie heeltemal brandewyn
nie, maar daai erg gegiste doppe wat oorbly as die skoon wyn afgetap is. Dié
goed is sterk – die drinkers daarvan se trots. Soos een vir Herrie se oom Rons
gesê het, hy drink petrol ook, maar dan moet dit BP wees.
Hoewel die sersant tien uit tien vir entrepreneurskap moes kry, het hy ook ‘n
voltal met dwarsboming van die gereg losgeslaan.
Nooit in die annale van Worcester se hofgeskiedenis is daarna soveel manne
met babelas aangekla nie. Dié keer sou ‘n grandpa-verkoper goed geld gemaak
het.
Maar gewoonlik het Jafel heel nugter agter sy “tafel” beland. Hy het ook so met
die jare baie goed gekonfyt geraak met die dinge van die hof, en baie bedrewe
daarmee om homself te verdedig. Van die manne in die selle wat by hom advies
gekry het (in ruil vir ‘n ietsie) was spyt Jafel het – behalwe vir sy eie gevalle – nie
verskyningsbevoegdheid gehad nie.
En so kontant was jafel naderhand dat hy, wanneer hy die staatsgetuie onder
kruisverhoor geneem het, na die aanklaer as sy “geleerde vriend” verwys het. Dit
het die ervare aanklaers uit hul siele geïrriteer as Jafel so na hulle verwys. Maar
nie naastenby so erg soos wanneer een glip en na Jafel as “my geleerde vriend”
verwys nie.
Die koshuismaat het egter nie omgegee nie. By Jafel het hy waardevolle
ondervinding opgedoen wat hy nie sommer by die universiteit gekoop sal kry nie.
Net een keer het Jafel regtig sy rieme in die hof vasgeloop. Dit was nie eintlik sy
regskennis en –vaardigheid ontbreek het nie, maar danksy die miskenning van
Kaaps, die bruin manne se taal, as hoftaal. En natuurlik ‘n effense toeloop van
omstandighede.
Maar om hierdie insident in konteks te kan vertel moet eers bietjie meer van jafel
en sy vaardighede te wete gekom word.
Die lawaaiwater en Jafel se verbintenis daartoe lewer menige staaltjies op.
Jafel was naamlik ‘n kampioen-vingerbokser. Die gevolg was dat die
bendemanne lugtig was vir die man se vingerboks-vermoë, maar hy tog gereeld
iewers heel kis gelê het.
Om Jafel met die vingerboks in aksie te sien is iets besonders. Sy handspoed is
verstommend, en sy reflekse, selfs wanneer hy gekoring was, uit die boonste
rakke. Dis die aardigste as hy sy vernuf demonstreer, en sy vingerpunte kon ‘n
millimeter van jou oë af tot stilstand. En het my kamermaat my verseker, die
hofordonanse het hom verseker as Jafel jou speels met die vingers in die ribbes
pomp, is jy vas oortuig jy het ‘n borskasoorplanting nodig. Nie ‘n enkele heel rib
nie, glo jy vas. Die geneigdheid was dus om half wyd van Jafel te bly as hy die
slag kapabel was.
Dit was chaos toe Jafel nog rugby gespeel het. Voor rustyd het die opponente al
hulle reserwes opgebruik. En Jafel is ook g’n so baie gegeelkaart en gerooikaart
soos mens sou verwag nie – Jafel se handspoed het daarvoor gesorg. Na oorleg
tussen die klubs is besluit om Jafel van flank na vleuel te skuif, maar dit het ook
gelol want Delicious het geweet om die bal net na Jafel te skuif om ‘n drie te kry.
Niemand het gewaag om binne Jafel se verwoestende vingers se trefafstand te
kom nie.
Maar een ding was sy baas...die lawaaiwater.
Eendag tref die eerwaarde hom toe ook aan waar hy in ‘n droë watervoor lê.
Die domineesgoed gee hom so ‘n paar stywe sole in die ribbes, en toe Jafel sy
ooghe oopkry, en min of meer gefoukus kry op die kwaai bakkies wat op hom
neerkyk, vra domineesgoed:
“En toe Jafel, as die Here jou nou moet kom vat?”
Jafel se instinkte is sterk, en met sy vingers wat so pons – pons die lug in, sê hy
dreigend: “Dis darem ook nie sommer net vir kô vat nie.”
Nie dat Jafel onverskillig oor die godsdiens gestaan het nie. By geleentheid pik-
pik hy weer straat af, met sy kompas wat heel duidelik ‘n elektriese storm beleef.
Dis net toe lat die pastoor met sy bakkie verbykom. Agterop had hy ‘n paar jong
gemeentelede wat goed geesgevang het.
“Ons gaan hemel toe, ons gaan hemel toe!” sing die spannetjie so ver soos die
bakkie gaan.
Jafel steek vas, oorweeg die storie ‘n oomblik, en toe brul hy agter die bakkie
aan: “Vat my sjaam!”
By geleentheid is Jafel weer by Jafel se tafel aangetree. Hy en ‘n ander skollie
het handgemeen geraak, en dié het oor sy seer ribbes by die Dienders loop kla.
Toe die landdros inkom, is Jafel nogal verlig. Hy en die dié man het al ‘n lang
geskiedenis, en hul verhouding is eintlik heel gemoedelik. By geleentheid het die
landdros, na hy Jafel oor iets gevonnis het, en Jafel sy gebruiklike preek oor
goeie burgerskap gekry het, ligtelik opgemerk hy hoop nie om Jafel gou weer
hier te sien nie. Jafel was niks stadiger as die Wes-Kaap se bruin manne as dit
kom by gevatte sêgoed nie:
“Gaan djou ônner dan biekie byrrie see uithang?”
Maar dié dag het die gemoedelikheid in die slag gebly.
Jafel kon nie weet dat die landdroste opdrag van bo af gekry het om die
bendebedrywighede en skolliegeit strenger te begin vasvat nie. Daar moet begin
word om ‘n voorbeeld te maak van die belhamels.
En Jafel is as so ‘n belhamel beskou. Maar van al die intriges weet Jafel niks, en
nog minder sy vrinne wat die besoekersbanke kom vol pak het nie.
Jafel word na ‘n lang verhoor (wat hy self veroorsaak het deur die klaer intensief
aan ‘n uitmergelende kruisondervraging te onderwerp) skuldig bevind.
Jafel hef sy gereelde rympie aan as versagtend...st swaar grootword, die sosio-
ekonomiese omstandighede, apartheid...
Die landdros val hierna weg met vonnisoplegging. Hy haal uit die antal
aanrandingsake se statistieke aan, die vooruitsigte van rehabilitasie van
geweldsmisdadigers, die vernietigende uitwerking van die bendekultuur...
Jafel het intussen besef hy moet intensief begin luister. Hier word nou sake
geopper wat nog nooit voorheen genoem is nie.
“Iewers moet die hof nou die voorbeeld begin stel om hierdie euwels met wortel
en tak uit te roei.” Jafel hou niks van wat hy hoor nie. Maar, besef hy, dis nou ‘n
gawe plek en tyd om bek te hou. Trouens, besef het, dit sou ‘n nog gawer plek
gewees het om nou heeltemal te makeer het.
“Ek vonnis jou tot ses maande gevangenisstraf.”
Op sy uitspraak het die landdros al 12 maande ingeskryf, maar hoe nader hy aan
die oplê van die vonnis gekom het, hoe jammerder het hy die verwese figuur
voor hom begin kry. Hy sal maar netnou in sy kantoor die “skryffout” gaan
regmaak.
Maar toe kom die eintlike ramp. En dis als Kaaps en die taalding se skuld.
“Appleal, appeal!” gil een van Jafel se geskokte maters hier agter uit die
besoekersbanke.
Jafel, wat sy hele verhoor in nogal keurige Afrikaans gevoer het, besef nie die
man daar agter het nié in Afrikaans geskree nie. Jafel meen die man het pas die
landdros in Afrikaans ‘n baie lelike ding genoem.
Plegtig draai Jafel by sy tafel om, en betig sy mater: “’n Pi*l se moer, hyse f*k*en
d**s.”
Ongelukkig vir Jafel was die landdros, op pad uit, nog binne hoorafstand.
So gebeur dit toe dat Jafel met minagting van die hof geslaan word ook.
En ook dat die landdros se wens om Jafel “nie gou weer te sien nie” ook
bewaarheid word.
Na st vrylating het Jafel ‘n ruk die reguit pad bewandel. Letterlik.
Maar nie lank nie, toe is die versoeking te groot, en kuier hy by die Ghutter waar
die sokker op ‘n groterige TV gewys word.
Dié aand, op pad huis toe, is hy met twee rye spore kortpad huis toe, maar
onderweg oorval die vreeslikste ramp hom. Of liewer, nie oorval nie, inval, want
hy stort in ‘n leë graf in.
Heeltemal te gepleister om uitgekruip te kom.
‘n Ruk later kom Kerneels verby, wat self goed gekuier het.
“Help my, ek kry koud,” kerm Jafel uit die graf. Kerneels strompel tot gevaarlik
na-aan die graf se rand en loer in: “Nou vi wat het djy djou dan ook oopgeskop?”
en met dié strompel hy min gespin verder.
Dis al goed donker, en Jafel het in ‘n hoekie gaan sit so opgetrek in ‘n bondeltjie,
om so warm as moontlik te bly.
Met dié kom Eric verby, ook goed gekletter, en val by Jafel in die graf in. Hy weet
niks van die geselskap daar in die hoek nie, en steier regop om te begin kyk na
maniere om uit die penarie en die graf uit te kom.
“Het djy dalk da’ vi’ my ‘n mêtsjie?” verneem Jafel uit sy hoek uit.
Maar sy woorde is skaars uit, toe is Eric sonder vat los by die graf uit, en reeds
op vol spoed toe hy buite grondvat.
Toe hulle die oggend Jafel stokstyf uit die graf haal, toe wys sy vingers nog
dreigend die lug in. Hy is nie sonder ‘n stênd gekomhaal nie.
Iets by die koffie?
Maandag, 15 Maart 2010

“Ek sien,” sê oom Brokkie waar ons op die stoep sit en Boeretroos wegslaan,
“die Amerikaners het nou nie net ‘n ‘tea party’ nie, hulle het nou ‘n ‘coffee party’
ook.

Oom Brokkie se algemene kennis verstom my. Ek het netnou op die internet eers
gesien die “coffee party” het pas gelyktydig op 370 plekke in die VSA en selfs
hier en daar oorsee, hul eerste bekers geklink.

Op pres. Barack Obama, in teenreaksie op die “tea party” wat nie so lief vir
Obama is nie.

Maar as ek gedink het ons gaan gesels oor die meer behoudende “tea party” en
die meer liberale “coffee party” wat weer Obama se gesondheidsplan uit die
dryfsand moet sleep, had ek dit mis. Oom Brokkie het sy stoute skoene aan.

“Dink jy nie ons politiek sal ook bietjie minder gespanne wees as ons ook in ‘tea
party’s’ organiseer wat veerpyltjies teen die “coffee party’ gaan speel nie?”

“Almiskie oom, maar oom weet mos wat vat die manne nou saam met hulle tee?”

“Met eisj!” sê ons geyk.

“Ja,” sê oom Brokkie. “Die slimste oplossings vir die land se probleme word
saans by die Oog uitgedink. Net jammer al wat die manne die volgende dag
daarvan oorhet is die vreeslikste hoofpyne.”

“Maar watter soort tee of koffie dink oom het die Prez nou die aand gedrink toe
hy so saam met die Boere gedinee het?”

“Ek dink koffieaan, want die volgende dag kon hy niks onthou van sy
onderneming dat hy Julius onder vier oë sou spreek en die kwessie met die ANC
se ringkoppe sou opneem nie. Trouens, die ANC trek nou die streep in die grond
en sê nou iets soos “julle Boere se moere, hulle gaan daai liedjie aanhou sing,
want dis nou deel van hul geskiedenis.”

“Maar is die Vlaamse Blok nie oor iets soortgelyks verbied nie?”

“Ja, maar hierdie is mos nie Wes-Europa nie.”

“Dink oom nie ons moet vir die Prez ‘n paar boksies Oom Tas by die parlement
laat aflewer nie?”
“Jong, netnou gaan lees sy adviseurs in die geskiedenis op en sien hoe Willem
Adriaan vir oom Tas in die Donker Gat laat toesluit het oor hy nie gehou het van
wat die oom oor die politiek gesê het nie. Dan kry hy idees, en word ‘n paar
mense weer daar toegesluit.”

“Seker darem nie vir lank nie. Dan kry ons presidensiële kwytskelding, en
intussen kon ons darem ‘n ruk van die dienste wat so agteruitgaan ontsnap –
want ek verstaan daar onder is hulle Eskom so ‘n entjie voor.”

So kuier ons terwyl ons met Boeretroos en Boerbeskuit ons “koffieparty” hou.

Op die bus
Donderdag, 11 Maart 2010

Daardie Dinsdagoggend diep in die tweede kwartaal van 1985 sal ek nie maklik
vergeet nie.

Dié oggend was ek soos gebruiklik een van die eerste passasiers wat op die bus
geklim het wat sy roete tussen die plotte deurgevind het om mense wat in die
stad werk, by die werk te kry.

By die stop na ek opgeklim het, klim ‘n hoërskoolseun ook op. Vandag klim twee
pikkies in hul laerskooluniforms saam op, wat vreemd is omdat die
laerskoolkinders gewoonlik skool toe loop, en die skool ook nie op die busroete is
nie.

Ek luister dus toe die oudste seun met die busbestuurder praat.

“Môre oom, die laerskool het mos gisteraand afgebrand, en nou moet hulle ook
voorlopig stad toe gaan.” Uit ‘n afsonderlike banksakkie diep hy die busgeld vir
die pikkies op.

Heel duidelik het die beheerraad deurnag gewerk om die krisis ten beste die hoof
te bied, en soos gewoonlik tot in die fynste detail gesorg dat selfs die kleintjies se
busgeld gereed is.

Die meeste mense hier op die plotte is brandarm, en om te aanvaar elke


huisgesin sal oornag die nodige geldjies, selfs vir busgeld, bymekaar kan maak
is baie gevra.

Dit word ‘n diep ontroerende ervaring.

By die volgende busstop is daar moeilikheid. Die drietjies wat moet opklim, twee
boeties en ‘n sussie, is kaalvoet in hul laerskooluniforms. Hier op die plotte gaan
die kleingoed kaalvoet skool toe.
Die groter seun het hul busgeld, maar in die stad is skoolskoene verpligtend. Hy
skop vas.

“Ons hettie soolskoene nie,” hoor ek die stemmetjie van buite kom.

Ek staan op, en beduie hulle moet inklim. As dit nodig is, sal ek self met die
skoolhoof praat. Soos dit is gaan die kleingoed genoeg getraumatiseer word oor
die skoene-ding. Kinders is wreed.

Vir die groter seun sê ek: “Skoolgaan is verpligtend, Jy mag hulle nie toegang tot
die skool weier nie.”

Ook ander mense klim op, en die laerskool se afbrand is ‘n groot


besprekingspunt. Die hoërskool is juis ‘n jaar of twee tevore gesluit om ‘n paar
onderwysposte in die stad te red wat weens kleiner blanke gesinne in die
gedrang begin kom het.

Ek kry die pikkies innig jammer. Gisteraand toe hulle kooi toe is, het hulle nog
geglo hulle is teen dié tyd vanoggend kaalvoet op pad skool toe. Hul eie skool.

‘n Paar uur later, terwyl hulle geslaap het, was die skool in ligte laaie.

By die volgende bushalte is daar weer moeilikheid. Die drie sussies het nie
skoolklere aan nie.

“Ma het gesê ons kan nie in ons skoolklere na ‘n ander skool gaan nie,” hoor ek
die stemmetjie van buite.

Die groter knaap met die busgeld kyk nou reguit na my. “Wat moet hy nou
doen?” staan oor sy hele gesig geskryf. Ek beduie die kleintjies moet inklim.

My hart krimp ineen toe die drie langs mekaar op ‘n sitplek vir twee gaan
neerplak. Net vel en been, en water was nie onlangs naby die drie velletjies nie.
Daar is waarskynlik nie lopende water in die huis nie, en warm water, of selfs
enigiets wat warm is, waarskynlik nog minder.

Ek is nie die enigste wat die erbarmlikheid waarneem nie. Ek het nog gewonder
of ek iets moet doen, toe het ‘n gryskoptannie met haar handsak opgestaan en
op haar hurke voor hulle gaan sit. Sy diep “dry wipes” uit haar handsak op, en ek
hoor haar vir die drietjies fluister: “Siestog, dit was seker nog donker toe julle
opgestaan het en hier en daar misgewas het.”

So diskreet as wat sy maar kan wees, en sy begin skynbaar die “kolletjies” skoon
vee.
Ek sien die oudste selfbewus bloedrooi tot agter haar ore bloos, maar sy sit
doodstil.

By die laaste busstop is daar weer moeilikheid. Ses pikkies staan en wag om
opgelaai te word. Die kind met die banksakkie is nou in die knyp: “Volgens my
lysie moes hier net drie kinder opklim, en ek het net vir hulle busgeld.”

Oom Salie staan dadelik op: “Kom mense, kom ons dok iets op vir die kinders se
busgeld – ook vir die terugkom vanmiddag, en as dit kan, ook sommer ietsie vir
hulle om iets te ete te koop ook. Ek sien ‘n klomp het juis hul toebroodjies in die
deurmekaarspul by die huis vergeet.”

Ons almal weet dat “vergeet” nie die regte woord is nie.

Ons maak ons harte en beursies oop. Vandag gaan ‘n hele klomp van die
grootmense self niks by die werk te ete hê nie, maar een dag bietjie honger kan
darem nie opweeg teen die poele grootogies wat ons so aankyk nie.

“Oom,” vra ‘n pikkie langs my benoud. “Gaan ek pak kry omdat ek nie
skoolskoene het nie?”

Ek kyk in die benoude ogies, en net daar besluit ek klim saam met hulle by die
laerskool af, en ek sal toesien dat die pikkies nie verder getraumatiseer word nie
– al moet ek die skoolhoof ook aan die keel beetkry.

En al beteken dit dat ek dan nog ‘n goeie drie kilometer na my werkplek sal moet
stap, en bitter laat gaan wees.

Dis my mense hierdie, en as ek dit kan verhelp ....

Snoetie die verskriklike


“Tannie Ousus. Hy brul vir my!”
Aan die benoude woord is vroulief se susterskind, skaars drie bakstene hoog,
wat saam met ouboet en sy ma ‘n kuiertjie van Bethlehem hier in die Rosestad
kom inwerk het.
Met die vertrekslag moet Snoetie ook gegroet word.
Snoetie, ‘n spierwit skippertje met ‘n tot poypom iewers in die voorgeslagte in.
Van Snoetie meer as ‘n dekade gelede van Bethlehem af Bloemfontein toe
verhuis het om vroulief se skaduwee te wees, was sy anders.
Vir kyk, nie vir vat nie. Behalwe vroulief – sy was al een wat mag gevat het.
Van dag een af was Snoetie uniek. Soos die groot honde, lief vir saam gaan
stap, maar ‘n halsband duld sy nie. ‘n Leiband is dus buite die kwessie.
En soos ‘n kat is reageer op bevele, versoeke en dreigemente ‘n opsionele
affêre.
Dit het ‘n riller afgegee as die uwe gaan koerant koop, want tussen neus en ore
sal Snoetie deurwurm, en straatkant los rondhardloop.
Soms met snaakse gevolge. Om pos te gaan uithaal moet ‘n stuk veld
oorgesteek word, en hier het Snoetie heeltemal eie koers ingeslaan en op haar
eie gaan bosluise opdoen. Tot die dag toe sy deur ‘n paar steekhaarbrakke
heelwat groter as sy geskraap is. Slegs die benoude “eau! eau’s het verklap
waar sy in die lang gras trek. Tot sy uiteindelik volspoed in die oopte uitegbreek
en by my kom inval het.
Straat oorsteek was ‘n riller, want as mens gelukkig is, kry mens haar gevang en
opgetel, skerpkant ver weg, en oor die straat gedra. Maar net so dikwels draf sy
horende doof oor die straat.
Ek het maar aanvaar haar vertoewenis in die Rosestad sou kortstondig wees,
veral omdat ons in ‘n berugte resiesbaan woon.
En eendag is dit toe ook so. Of so het ek gedink.
Sy draf heerlik oor die straat en ‘n motor kom aangejaag, bo-oor Snoetie. Doef!,
en die volgende oomblik spoeg die kar ‘n wit bondeltjie agter uit.
Klaar met Kees, dog ek, maar die volgende oomblik vlieg die wit bondeltjie op, en
die hare staan pure booslike ysterswyn opgeblaas, en sy blaf verwoed vir die
voortsnollende affêre wat haar so onsagkens behandel het.
Hierna was haar wanderlus skynbaar permanent gedemp.
Sy het toe ‘n regte huisbrakkie geword, en soos ‘n skaduwee haar nooi gevolg.
En dit was ook deel van die moeilikheid. Kliënte gewaar die fraaie brakkie en wil
koppie vryf. Fout! Dit klink kompleet soos papiere skeur soos sy grom, hap en
blaf. Een van die ongevalle was ‘n vrou wat al jare gekom het, en geweet het, en
gedog het dis nou sulke tyd. Ses steke.
En veral ‘n kind is mos vinnig. Hoor niks as mens ter aanvang waarsku om nie
aan die hondjie te vat nie, maar blitsvinnig om so te probeer maak as mens se
aandag net ‘n kwart oomblik elders is. Dan hoor mens net die geluid van papiere
wat skeur.... Die petalje word met ‘n bitterlike geweeklaag gevolg. Pleisters
uitdeel was deel van ons aan huise lot.
En dis hoe die gebrullery van onder die bed gekom het.
Gisteroggend moes ek ‘n diep gat in die agterplaas graaf, en ‘n rukkie later het
ouboet Snoetie die laaste keer gaan wegbêre. Vanoggend kom vertel ons
jongste, wat outisties is, hy het vir Snoetie ‘n blommetjie geneem.
Snoetie was nooit ‘n skoothondjie in die ware sin van die woord nie. Die
vreeslikste karsiek het verseker dat sy omtrent net gekom het waar haar eie
pootjies haar kon dra.
Snoetie was jare lank op hartpille. ‘n Paar maande gelede het die pille so goed
begin werk dat sy soggens weer uitgeglip en “saam” gaan stap het. Dié keer wel
meestal op die sypaadjies, maar ‘n slag of wat het ‘n toeter iewers agter my wel
verklap dat Snoetie bietjie in die straat ingedwaal het.
En toe skielik werk die pille nie meer so goed nie.
Vanoggend soek Pumba na Snoetie. Maar die nooi se skaduwee is nou waar ‘n
jong doringboompie eendag sy skaduwee gaan werp.
Snoetie se brul het stil geraak.
Die hart van outisme
“Hoekom ek slaap?”
Hoe verduidelik ‘n mens aan jou outistiese kind hy het nie sommer maar so
staande aan die slaap geraak nie? Dat hy flou geword en omgekap het?
Ons ry huis toe na sy eerste bergfietswedsren.
Soos gebruiklik moes pa – dis ek – saam ry want verstaan is nie altyd maklik nie
en ‘n mens wil nie diskwalifikasies en daardie teleurstelling hê nie. Die
deelnemersmedaljes is vir hom baie werd – dit inspireer hom om iets te vermag -
te presteer.
In baie opsigte is ons jongste nie tipies outisties nie. Hy is dol oor sekere mense,
hy is ouervas. Hy is nou amper 17, en baie langer as sy pa en ma.
Kort voor die naweek was dit sulke tyd – sy ma se jarelange skaduwee, Snoetie,
het ‘n laaste rusplek in die agterplaas gekry. Snoetie het net een mens geduld –
vir vroulief. Ons ander het gereeld onder die tandjies deurgeloop.
Tog was dit ons jongste wat sedertdien kort-kort sorg dat daar blommetjies op
Snoetie se laaste rusplek is. Netnou was hy weer hoog op ‘n leer om blommetjies
wat in ‘n palmboom ingerank het by te kom.
Kleintyd het ons die deelnemersmedaljes ingeryg – pretrappe en pretdrawwe.
Dié mannetjie het asem. Toe hy nog na die spesiale skool gegaan het, moes ek
een keer per week skool toe gaan en in die oefenperiode saam met die atlete om
en om die skool hardloop, sodat die mannetjie kon verstaan wat van hom verwag
word.
Nie lank nie, toe kry ek ‘n medalje vir deelname aan ‘n 20 Km-wedloop, jare na
ek uit landloop getree het danksy ‘n knie wat voor en na ‘n operasie nie meer
wou saamwerk nie.
Die jaar daarna doen ek my eerste standaardhalfmarathon, en vroulief gelas dat
dit ook die laaste is. Die knie maak óf oefen, óf deelneem moontlik. En toe was
die uwe amper 50.
‘n Paar jaar se betrokkenheid by die boeramark Saterdagoggende het die
medaljes ‘n ruk laat opdroog, maar vanjaar is weer ingeval/
Pa is op kleinman se ou fiets waarvan die agterwiel met elke draaislag iewers
haak. Kleinman het ‘n regte bergfiets gekry, opgebou uit nuwe en ou onderdele.”
“Moenie vir pa wag nie. Ry so vinnig jy kan.”
Nie lank nie, toe is daardie agterwiel wat so vassteek pap, en die trap word
moeilik. Kleinman is los voor, al ry hy net in eerste rat. Om van ratte te probeer
verduidelik is ‘n emosionele affêre, en eindig gewoonlik in stilstuipe.
Uiteindelik kom die uwe by die eindstreep aan, en kry ‘n deelnemersmedalje,
maar daar van die bakkie af word beduie. Hoe nader “gedraf” word (die bene
wou nie meer regtig nie) hoe meer kom woorde soos “flou geword” en “”kop
gestamp” aangewaai.
Anderkant die bakkie lê kleinman plat op sy rug, maar by. ‘n Paar besorgde
mense byderhand. Bloed is op kleinman se hande. Ek let op sy fiets se voorwiel
is pap, en ek kan my indink hy het uiteindelik die idee van kompetisie gesnap, en
gejaag, en met ‘n pap wiel, sy gô uitgetrap.
Boonop was hy vooraf so opgewonde, hy het baie laat gaan slaap die vorige
nag, en was ook bitter vroeg op.
Terwyl hy vir pa by die bakkie gewag het, het hy flou geword en agteroor geval,
die kop stukkend.
Ek “draf” om hom te gaan Coke koop, sy gunstelingdrankie. Terug by hom, is ‘n
paramedikus ook by, ‘n apparaatjie aan die lang dun vingertjie.
Hy beduie hy is “fine”, hy wil huisie toe gaan. Min taal, maar dit wat hy opdoen is
van ‘n mengsel bronne en baie van sy strokieshelde op TV, en dié is feitlik voor
die voet Engels. Soms spreek die Engelse woorde ook makliker uit met die
beperkings op klankreproduksie.
Ons pak die pad huis toe aan. En dis toe dat hy wil weet hoe dit dan is dat hy so
aan die slaap kon raak. Ek probeer beduie van “lights out” en ander terme wat ek
uit sy Jackie Chang-videos kan oproep, maar tuis word ma ook ingelig van die
aan die slaap rakery, en toe die kopvallery.
Nie lank nie, is sy kop soos ‘n mummie toegedraai, en kleinman is nie min
beïndruk nie. Nou kan almal sien hoe ‘n vreeslike ding hy oorgekom het.
Pa probeer wiel regmaak. Die ou fiets se binneband is daarmee heen. Sy nuwe
ryding se voorwiel lewer uiteindelik vyf gaatjies op, voor dit lyk of alles toegeplak
is. Vanoggend, op die Sondag, is die voor- en agterwiel pap. Nog ‘n gaatjie voor,
en drie agter. En die dag daarna is die agterwiel weer pap, en kleinman vervang
dit self met ‘n nuwe binneband. En so, verband om die kop is kleinman die leer
uit, blommetjies daar bo vir Snoetie.
En sy pa wil hom dooddruk.

Duskant die longdrop


Woensdag, 23 Desember 2009

Die Afrikaanse vertelkuns loop omtrent net so gereeld by die outydse gemakkies
verby soos Afrikaanse TV-stories met ongetroude meisies in die ander tyd
opgesaal sit. Dis nou, soos Worsie gesê het, oor die tou geval het.

Neem nou maar die storie van die knaap wat oplet die gemakkie langs die rivier
is al taamlik weggekalwe onder. So betrag, besluit hy dit gaan nie veel moeite
verg om van die longdrop ‘n duikboot te maak nie.

So gedink, so gedoen.

Later kom sy pa by hom.

“Boetman, die Amerikaners het ‘n president gehad. Sy naam was Abraham


Lincoln. Eendag saag hy die kersieboom af van stoutigheid. En toe sy pa vir hom
vra of hy die kersieboom afgesaag het, toe sê hy ja, en omdat hy nie gejok het
nie het sy pa hom nie gelooi nie.”
“Ja pa,” maar Boetman se verstand werk oortyd oor sy pa hom die verhaal so uit
die bloute kom vertel.

“Het jy die kleinhuisie in die rivier laat val?”

O ja, nou sien hy, en sy pa bied sommer ‘n reddingsboei om nie geklop te word
nie.

“Ja pa,” antwoord hy eerlik.

Toe sy pa hom klaar geklop het, wil Boetman in trane weet hoekom sy pa hom
nou so gelooi het, terwyl Lincoln se pa nie, net oor hy eerlik was.

“Ja, maar Lincoln se pa was nie in die kersieboom toe dit afgesaag is nie.”

Dan leef die storie voort van Koos wat na ‘n goeie oes en ‘n “gesig” neffens sy
huis vir olie laat boor het...teen almal se advies in.

Na ‘n kilometer en ‘n half die dieptes in is daar nog net kurkdroë ysterklip, en


Koos se bankbestuurder skop vas. Koos benut toe maar die verleentheid deur ‘n
lo...o...o...ng drop oor die gat op te sit. Volgens alle inligting is dit die gemakkie
met die diepste gat ter wêreld, en die inwyding is ‘n groot geleentheid met die
burgemeester en ‘n verteenwoordiger van die administrateur in die skare.

Uiteindelik is dit sulke tyd, en Koos is koerant onder die arm in vir ‘n ringsitting.
Maar hy kom nie weer uit nie. Naderhand word plegtig geroep, en toe op die
sinke gehamer, maar Koos is doodstil.

“Ek dink daar het metaangas uit die gat gekom en Koos oorval,” sê die skoolhoof
en onverwyld word die deur afgebreek. Daar sit Koos potblou op die troon.

“Oom, verduidelik klein Koos aan die dokter, “my pa het die gewoonte om sy
asem op te hou tot hy hom hoor val.”

Jors Troelie se oupagrootjie, oupa Pieter de Necker het op Petrusburg loop


aftree, waar hy ook naderhand burgemeester was.

Toe word oupagrootjie 90, en van oor die hele land kom kinders, kleinkinders en
agterkleinkinders. Aangevul deur die ander kennisse se kleingoed, is die groot
dorpswerf vol kinders, wat eers te heerlik speel maar naderhand opgeskeep
raak. Opgeskeepte gesonde kinders is ‘n tydbom.

Destyds had oupagrootjie se huis reeds ‘n binne-gemakkie, maar met so baie


mense is dié vertrekkie slegs vir die dames. Die mans moes in die agterplaas die
trappies op na ‘n deur doer bo, en ‘n klein deurtjie doer onder aan die agterkant,
gerieflik binne bereik van die nagwa.
Nie ‘n honderd jaar nie, toe is kattekwaad uitgedink. Die jongklomp gaan sit in ‘n
plaat op die grasperk reg oorkant die voorste deur. Dan, sodra daar ‘n slagoffer
binne is, glip die “afgevaardigde” na die klein deurtjie, maak dit saggies oop en
laat loop met ‘n handvol gruis die hoogtes in. Dan moet die “toeskouers” in detail
aan die “afgevaardigde” verslag doen van die reaksie.

Naderhand bly die “afgevaardigde” sommer agter, en doen sy ding. Die


terugvoer was te identies om elke keer te kom verneem, en dis snikheet warm.

Toe kom daar fout. Ta’ Hannie kon nie meer wag vir die een wat almal in die
binne-gemak ophou om klaar getittewyt te raak nie, en sy durf die trappies in die
agterplaas aan.

Nou is daar ‘n probleem, want die “afgevaardigde” het agter vir sy volgende
slagoffer gewag, en was salig onbewus daarvan dat die jongste slagoffer buite
perke was.

Die kort en die lank is dat ta’ Hannie die huis in is, en nog voor mens kon sê
“mes” toe gaan die deur soos ‘n koekoekhorlosie se deurtjie oop en ‘n stroom
grootmense storm met enige denkbare slaanding by die deur uit.

Nooit in die heugenis van Petrusburg het so baie kinders op een slag so erg
siepsop gekry nie soos op oupa se negentigste verjaarsdag.

Maar Herrie had nog ‘n oupagrootjie. Dié het ook in die negentig geword, maar is
kort daarna oorlede net mooi toe ma met my in die kraamsaal gelê het.

Ma sê sy het pa baie jammer gekry, want hy was baie erg oor dié oupa van hom,
maar toe hy van die begrafnis terugkom, is hy dik van die lag.

Die begrafnis was in Mosselbaai, en voor die ter aardebestelling het die kis op
bokkies op die stoep gestaan. Dié stoep het oor die see uitgekyk.

Maar merk pa, oupa se seun, oom Tienie, loop wye draaie om die bokkies, ook
na die begrafnis toe ‘n klomp begrafnisgangers op die stoep kuier. Daar was
inderdaad min dinge waarvoor oom Tienie nie bang was nie ... trouens, hy was
legendaries daarvoor.

Maar die stoep het nie net oor die see uitgekyk nie. Die stoep het ook oor die
agterplaas uitgekyk, en heel onder op die verste hoek, die buitegemakkie.

Seker oom Tienie se ergste vrees was engtevrees.

Toe dit dan sulke tyd is, en oom Tienie die gemakkie moes opsoek, moet sy
wederhelf, tannie San, saamgaan. Omdat die deur weens oom Tienie se vrees
nie heeltemal toegemaak kon word nie, moet tannie San buite kywie hou.
Maar soos oom Tienie, was tannie San ook ‘n opperste platjie. Met oom Tienie
gemaklik op die troon, glip tannie San terug stoep toe, gryp die twee bokkies,
stap terug gemakkie toe, en druk die twee bokkies by oom Tienie in die
gemakkie in, druk die deur toe en skuif die buiteknip in.

Dit alles gebeur ten aansigte van die mense op die stoep wat so gepak soos die
skou se pawiljoen is.

Pa sê dit was so ‘n rukkie doodstil, toe skiet die deur heel uit sy skarniere ui dat
dit doer trek. Toe vlieg die bokkies uit die gemakkie uit, gevolg deur oom Tienie
wat histeries, broek op die enkels, die bokkies fyn en flenters spring.

Die dag toe Kersvader sy baard aan die brand


steek
Vrydag, 18 Desember 2009

Alles was gereed vir Kersfees. Hier vroeg in die nuwe jaar sou Pa en Ma vir die
sesjarige Veronica die slegte nuus breek dat daar geen Kersvader is nie, want
Veronica gaan aanstaande jaar skool toe en die ouers wil nie hê die maatjies
moet haar straks spot nie.

Maar hierdie Kersfees is nog vir oulaas 'n regte een op die plaas met Kersboom
en Kersvader. Ma, Veronica en die driejarige tweelingsussies, Bianca en Madré,
werk al weke lank om alles in orde te kry vir Kersaand.

Selfs 'n ete soos min word vir Kersvader aangelê, want, verduidelik Veronica, dis
ver van die Noordpool af en Kersvader sal al baie moeg en honger wees.

Sy het immers al met vorige Kersaande gesien hoe Kersvader aan die kossies
kan weglê.

Want oom Koos wat al 'n paar jaar vir Kersvader instaan, het nie daai bierpens
gekry van min eet nie. Trouens, Veronica is al so geleerd oor Kersvader dat sy al
'n ensiklopedie sou kon skryf as sy al kon skryf. Sy ken al Kersvader se takbokke
se name op ‘n streep, maar by Blitzen trek sy die streep. “Ek noem hom sommer
Donderweer want ‘n mens mag nie vloek nie.”

“En pa, hoekom is Rudolf se neus rooi? Het hy nie sy draai mooi gekry toe
Kersvader esse gegooi het nie?”

Met al haar navorsing oor Kersvader het die lyne ook met St. Nicholas en Swarte
Piet gekruis, en die twee heel inmekaar geklits. Die volgende jaar wou sy knaend
huilerig by ma weet of sy, Ma, dink sy, Veronica, was soet genoeg, want so blyk
dit uit haar navorsing, St. Nicholas bring net vir die soet kinders geskenke. Vir die
stouters neem hy ‘n lat saam waarmee hy die stouterts sy boude vreeslik seer
piets.

Ma verseker haar Kersvader meen sy is soet. Hy het self so vir ma geskryf.

Toe wonder Veronica nog net oor Bianca wat soms so onmoontlik kan wees. Oor
oom Gert-hulle se stoute seun Japie het sy nie twyfel nie. Siepsop is Japie se
voorland, en as Japie nie oppas nie, doen Kersvader sommer met sy terugreis
Noordpool toe wéér by die huis aan.

“Ma, is Kersvader getroud?” wil Bianca weet.

“Natuurlik,” snip die alwetende Veronica. “Sy vrou se naam is Mary Christmas.”

Maar die oggend van die 24ste begin al die planne skeeftrek. Dit begin reën.

Eers is niemand bekommerd nie, trouens, almal is baie bly, want dit is droog.
Later stortreën dit, en die SMS'e begin vlieg, want die telefoonlyne is af en die
kinders kan alles hoor wat oor die tweerigtingradio gesê word.

Dis ‘n groot organisasie wat vergelyk kan word met die boere se operasionele
vermoëns as hulle vir ‘n veldbrand of plaasaanval uitgeroep word.

Eers word die planne net aangepas. Pa en Ma diep 'n ou Kersvaderpak uit die
kas op, want oom Koos kan nie dié weer op 'n trekker met sy Kerspak aandurf
nie.

Ma besluit die baard is te gekoek, en spuit haarset aan en kam dit mooi uit. Die
Kersvaderuitrusting word tussen die oorpakke in die melkstal gehang, en van toe
af moet die glimlaggende melkers buite reikafstand van die spantou bly, want Pa
is iesegrimmig.

Toe kom die regte slegte nuus. Van die reënery het oom Koos nou 'n hoes en die
tante sê aikôna, g'n niks trekker-ryery in die reën nie. Met die spruite wat al vol
loop, is dït al manier. Pa moet vir Kersvader instaan.

Synde Pa nie 'n pens soos oom Koos het nie, word 'n kussing ook melkstal toe
gesmokkel.

Kort voor Kersvader met sy slee, aldus Veronica, op die huis se dak sou land,
word die afgespreekte SMS ontvang dat daar 'n jakkals by die skape is, en Pa is
vort. Eintlik sit hy af na waar die Kersvaderpak tussen die melkers se oorpakke
hang.
Teen daardie tyd het Veronica lankal verklaar dat die weerstoestande van so 'n
aard is dat Kersvader nie met die koets en Swarte Piet die geskenkaflewerings
sou doen nie.

Pa is skaars in die Kerspak, toe gaan die krag uit. Eskom is weer die ene
Eisjkom. In die huis, sien hy, word kerse aangesteek. Die Lister loop al jare nie,
en in daai reën gaan dit ook nie help om hom aan die loop te probeer kry nie.

Pa durf die reën aan, en val behoorlik met die sak geskenke in die huis in.

Die geskenkuitdelery by kerslig verloop goed. Veronica verduidelik van Pa wat


moes gaan jakkalsjag.

“Dis ‘n tragedie,” vertel sy grootoog vir Kersvader, want pa is so ‘n yster met die
kalkoensnyery. Nou sal Kersvader dit self moet doen. “Kan Kersvader met ‘n
mes werk?”

Toe word aangesit. En dis waar dinge weer verkeerd loop.

By geleentheid moet Kersvader 'n bietjie oorleuen om die kalkoen te sny, toe die
baard te na aan 'n kers kom. Ma se haarsproei laat dit soos petrol brand.
Kersvader ken toe 'n paar woorde wat die meisietjies dog net Pa ken as hy met
die trekker-enjin sukkel. Veronica onthou dit ook nog vaagweg uit die Listerdae.

Pa laat waai na buite, waar hy die brandende baard onder 'n lekkende geut druk,
en toe verkas hy na die melkstal toe.

'n Rukkie later is pa terug van sy “jakkalsjag” af. By die huis tref hy sy dogters
ontroosbaar aan, want, verduidelik Veronica, hulle het nou dié Kersfees vir seker
honderde ander kinders, by wie Kersvader nog nie was nie, verongeluk.

“En al is hy nog in staat om self verder te gaan, is hy nou seker so kwaad die lat
gaan vreeslik praat, al was die kinders nie eens so stout soos Japie en Bianca
nie.”

Ma is dik van die lag, maar steek dit weg.

Pa kry 'n blink gedagte: "Nee wat, teen dié tyd het Kersvader lankal vir Swarte
Piet gestuur. Hy gooi mos sommer die presente in die skoorstene af. "

Ingedagte stap pa die gang af. Tog jammer onskuldige pret, ook kinderpret, moet
so in die slag bly. Tot ‘n paar jaar gelede het ‘n paar onnutsige boere nog
middernag Oujaarsaand ander se hekke met draad gaan vasdraai. Dis nou die
hekke van boere wat gaan dans het in plaas van Middernagdiens toe is.
‘n Boer wat met Bacchus in sy lyf op die plaas aankom, sukkel vreeslik met so ‘n
toegedraaide hek. Soms word ‘n paar klappers gestel om die sukkelende boer te
help om bietjie nugterheid te herwin.

Nou maak plaasaanvalle dit net te gevaarlik.

Selfs Kersfees is nie meer wat dit was nie.

Renosterstories
Dinsdag, 08 Desember 2009

Neef Ferdie is ‘n wildboer, en renosters is sy ding.

Ferdie is nie sy regte naam nie, maar die leser sal teen die einde besef hoekom
‘n nom de arnoster aangewese is.

Boonop verkies neef Ferdie swart renosters. Dit het glo niks met kleur te make
nie, maar eerder met die humeur. Die swart renoster, so verstaan dié stadsjapie,
is effens kleiner as die wit renoster, maar die swart humeur van die swart
renoster het ‘n paar opspraakwekkende historiese aantekeninge tot gevolg
gehad.

Soos die ene wat kort na die Engelse ‘n spoorlyn Kenia se binneland ingebou
het, besluit het hy soek net niks sulke raserige indringers nie en die lokomotief
bestorm het. Die slag was so hard dat die lokomotief onklaar bly stoom afblaas
het, terwyl renoster se kind sy kop ‘n slag of wat geskud en weggestrompel het.

Neef Ferdie se gunsteling renoster het ook sy naam gekry. Ferdie die renoster
was naderhand half mak vir neef Ferdie, maar versigtigheid is nooit oorboord
gegooi nie. Soos dié slag wat neef Ferdie skielik gesê het: “Laat waai!” Ons laat
waai.

Veilig in die trok verduidelik neef Ferdie: “As daai renoster sy ore begin wikkel en
sy stert swiep...”

Kort hierna is Ferdie saam met ‘n paar ander renosters verkoop. Die laaiery is
nie al te maklik nie, veral nie as dit swart renosters is nie. Hulle moet verdoof
word en dan is dit ‘n liederlike stuk bedremmelde gewig om te laai.

Neef Ferdie kyk die storie so. Ferdie die renoster wei nog heel rustig te midde
van die rumoer en neef Ferdie wonder of soveel drama regtig nodig is.

Ferdie die renoster was legendaries bekend hoeveel hy van lemoene hou. Meer
as een keer het die wildsheining dit ontgeld as ‘n lorrie met ‘n vrag lemoene
verbyry mark toe, want Ferdie kan iets vreesliks ruik. Veral lemoene.
Neef Ferdie gaan haal ‘n paar lemoene, en a la Hansie en Grietjie word lemoene
tot agter in die trok ente uit mekaar gesit. Ferdie vat die buit, en stap al loemsop-
spuitend heel rustig tot agter op die bak. Toe word gespring, en die trok
toegemaak.

“Toe leer ek hoekom renosters, in elk geval swart renosters, nie so getrok word
nie.”

Die trok was net toe, toe strip daai swart renoster sy moer iets allerverskrikliks.
Sommer gou is dit duidelik as daar iets van die trok moet oorbly, moet Ferdie
daar afkom. Die bak word oopgemaak en almal laat spaander, want nie eens ‘n
ton lemoene sou nou Ferdie se bui gou laat sak nie.

Ou Pula het ‘n mank been, en Ferdie pik op hom. Net, net betyds haal Pula ‘n
stewige karee, en soos neef Ferdie sê, met die afkomslag gryp Pula een van die
boonste takke vas.

Maar Ferdie die renoster se briekse en belyning is nie heeltemal skerp genoeg
om betyds op Pula se “disappearing act” te reageer nie, en hy dryf daai lang
neushoring tot by die neusgate in die karee in.

Neef Ferdie sê almal wil nog verlig raak, want ‘n karee laat so ‘n neushoring soos
‘n bajonet vassuig. Maar watwou, Ferdie die renoster is gans te die hoenders in
om hom so te laat vang. Hy begin ruk, met die gevolg daai boom werk soos ‘n
kleilat en hy slinger vir Pula in ‘n blinkblaar in. Almal wou nog wonder of Pula dit
oorleef het, toe trek hy al vyftig meter verder, met die helfte van sy oorpak wat in
die blinkblaar agtergebly het.

Nou moet ek darem ter versagting bysê as ek nou dalk half wyd met die
waarheid omgaan, neef Ferdie las partykeer dinge by sy stories om dit
interessanter te maak – nie lieg nie, maar ‘n stadsjapie kan dalk nie agterkom dis
spekskiet nie en dit vir die waarheid opdis.

Vertel neef Ferdie, daai karee staan toe op klipperige grond, en met die gespook
lig Ferdie die renoster die boom met wortels en tak uit daai losserige bodem. Hy
skud sy kop ‘n slag of wat woes, en daar trek die boom.

Nou moet ek eers weer ‘n draai gaan maak om die storie te kan vertel soos dit is.

Ma het in haar dae voor sy met pa getroud geraak het, vir ‘n Engelse klas
Afrikaans gegee. By geleentheid moes die klompie opstel skryf oor ‘n
jagervaring. Bygesê, destyds is renosters nog gejag, en nie net gestroop nie.

Die een knaap se storie handel oor sy pa wat gaan renosterjag het. Maar toe
“wond” hy die renoster. En toe gaan soek daai renoster die man wat hom
gewond het.
“Die renoster is so kwaad, hy kyk agter hierdie boom, en hy kyk agter daardie
boom.”

Die probleem is, sê ma, die Engelse kinders raak soms vreeslik deurmekaar met
die Afrikaanse “y”, en die “a” wat in Engels mos ook as “y” uitgespreek word.

Dit was dus nie soseer ge-“kyk” wat die renoster so agter die bome gedoen het
nie.

Dié storie het al lankal by neef Ferdie uitgekom, synde hy ook so met renosters
deurmekaar is.

“Daai Ferdie was so kwaad, hy het nie eens gebodder om agter die bome te
gaan kyk nie. Dis net die ene bolle.”

Nie lank na Ferdie die renoster se vertrek nie, kry neef Ferdie ‘n beter aanbod en
verhuis na ‘n ander provinsie. Ook hier word op die wildsplaas met renosters
gespesialiseer.

“Ons koop toe ‘n plaas by om uit te brei, en natuurbewaring kom doen inspeksie.
Terwyl hulle die kamp inspekteer wei daar ‘n klompie springbokke in die kamp
wat maar daar was toe ons die plaas gekoop het.

“Een van die Natuurbewaringsmense bekyk die springbokke skepties, en vra toe
vir neef Ferdie: ‘Dink jy daar is genoeg springbokke vir die renosters om te eet?’

“Nou kan ‘n man ook nie eens lag nie, want of hulle nou iets weet of nie, hulle het
wye magte en kan ‘n man se aansoek afkeur.”

“Ja’” lag ek saam. “Soos almal weet vreet renosters eintlik rooibokke.”

“Ja, nie springbokke nie.”

Gelukkig nie want daar het juis 'n ruk gelede ‘n klompie uitgediende springbokke
uit Europa aangekom.

Volksverraaiers
So flussies lees ek dr. Dan Roodt se artikel oor Afrikanerverraaiers.

So deur die tye het die uwe ‘n paar stories oor verraaiers uit die Boere-oorlog
raakgeloop wat ‘n mens ‘n paar keer laat dink.

Ma-Johanna het op Ventersburg grootgeword waar ds. Koornhoff sy spannetjie,


ook Piet Promises, grootgemaak het. Maar dis nie eintlik die storie nie.
Kleintyd al was ma besonder bewus van die oom op die stoep van ‘n dorpshuis –
die oom was sonder tong. Blykbaar het tongkanker vir dié toedrag van sake
gesorg.

“Die Here se straf,” het die ou mense gefluister, en sommiges sommer hardop
gesê.

Die oom was naamlik die “bevelvoerder” van een van die Kakies se swart
kommando’s wat teen die einde van die oorlog so na die plase getrek, die
opstalle afgebrand en die vroue geterroriseer het.

En toe sit die oom op die stoep, en kyk na die verwytende oë van die mense wat
weet.

Die slegte kinkel natuurlik. Terwyl die ou mense miskien bietjie subtiel was, was
die kinders nie. Om vir die oom op die stoep te kom tong uitsteek is miskien nog
een ding, maar om sy dogtertjie op skool te treiter, iets heel anders.

Maar meer bisar is die Oos-Vrystaatse storie van die skatryk oom. Skatryk,
omdat hy ook sy mense in die oorlog verraai, en deur die Engelse beloon is.

Op ‘n dag kom ‘n brandmaer vrou, met haar baba op die arm op die plaas
aangestap. Sy is asvaal, en die baba ook al erg afgerem.

Sy vra kos. Haar mense is deur die oorlog geldelik uitgeroei.

Sonder meer jaag die man die vrou en haar baba weg.

Maar voor sy weg is, sê sy vir die oom: “Jy sal nog van die honger doodgaan.”

En net daar het iets in die oom geknak.

Sy familie was raadop, want hy wil niks eet nie want daar is nie geld voor nie.

Nie lank nie, het die oom so agteruitgegaan dat hy dood is.

Van die honger.

Maar sy boedel was skatryk, en sy bankrekeninge propvol geld...

Die laaste keer toe ek die man gesien het wat so selfvoldaan was oor sy
meesterlike werk by Kemptonpark, het hy nog sy tong gehad en was hy nie
honger nie.
Maar sy toespraak was dié van ‘n man wat ‘n selfvertroue-knou weg had, hy het
taamlik gestotter, sy gesig vol afremmerke, sy gesigspiere het geruk...tydens die
geselligheid agterna het hy alleen eenkant buite op ‘n muurtjie gaan sit.

Maar daarna hoor ek hy is steeds ANC.

You might also like