Voorwoord

Met die saamstel van hierdie bundel is Fifa se 2010 Wêreldsokkerbekereindtoernooi nog nie afgehandel nie. Tog het soveel humoristiese elemente opgeduik – beide van ‘n positiewe uitkyk as ‘n negatiewe – dat die dit nie maar net kan verbygaan nie. Anders as wat dikwels gedink word, is sokker nie van gister af met onse mense nie, soos die “sokkerwedstryde” skoolpouses tussen die Gesuiwerdes en Smelters – of dan liewer, tussen hul kinders. In hierdie bundel is ‘n redelike wyd-uiteenlopende materiaal oor sokker en die toernooi versamel, maar ook baie ander humoristiese materiaal wat niks met die sokker te make het nie. Ou-ou vertellings is opgediep en afgestof. In die inhoudsopgawe word die sokkerverwante stories met ‘n ◘ gemerk. Ek is self eintlik ‘n rugbyman, maar by geleentheid het ek kinders regtig jammer gekry oor hul rugbylus, en gewens hulle het liefs by sokker gebly. Dit was jare gelede tydens ‘n Komops-operasie by die Gariepdam. Die bruin kinders is op hul “sokkerveld” (‘n lap gruis met doelhokke) geleer rugby speel. Nie lank nie toe ruk dit van entoesiasme hande uit, en opponente word geduik dat die stofwolke staan. Eers wanneer die stof gaan lê het kon die ongevalle bepaal word. Gelukkig is hierdie wedstryd gou kortgeknip. Die opvatting dat rugby uit sokker ontstaan het is waarskynlik meer mite as iets anders. Vir eeue het naburige dorpe en selfs die Romeine al ‘n soort rugby gespeel waar ‘n “bal” op enige denkbare manier moontlik tot op die stadsplein van die “opponente” gedra moes word. Soms is selfs te perd gery. Dit spreek vanself dat die oudste rugbyreëls nie baie met vandag s’n vergelyk kan word nie. ‘n Rooikaart is iemand se voorland as hy ‘n opponent deur “hacking” sou neervel (om die opponent se bene onder hom uit te skop. Soos die sokkerspelers nou op ‘n streep bly lê is dit duidelik dié tegniek word nou in sokker voortgesit, hoewel ook teen die reëls. Nog ‘n ou reël wat beslis teenspoed sou kry is “stragging.” Dit is om die opponent te wurg tot hy die bal los. Geniet die lees. Herman

Inhoudsopgawe
◘ Sokkerpolitiek Hoedeversierings in die Namakwaland in Renosterstories Sondaghaas Bran de Wijn Duskant die longdrop Jagtog op die Knersvlakte Oom Brokkie se kontrêpsie Teenoorgesteldes Die slimste dier? Die gelanseerde geweer Op die waterkar Die *&% mot en die skuiwergat Van spietkops en boetebessies Mev. Dokter Groot drome Die dag toe Kersvader sy baard aan die brand steek Onderonsie met die luiperd ‘n Boerbok neem kerk op horings Assuransie Feloftegees, ekskuus, Geloftefees sonder weerga ◘Politiek van die blikbord ◘‘n Dokter maak ‘n boereplan ◘Sambrele vir ‘n begrafnis ◘Die donkie is ‘n wonnerlike ding Oumagrootjie se móét troue ◘Herrie se kerrie: Smokkel met buitelanders se koppe ◘Herrie se kerrie: Sokkerkoors ◘Herrie se kerrie: Boererate teen fufuzelas Herrie se kerrie: Drinkwater

◘Op die oorkantste pawiljoen Herrie se kerrie: Kangaroes in Sodom ◘Blik Oor oor orige sokkerballe ◘Blik Oor oor Nederlandse reisadvies Herrie se kerrie: Outisme en om te kan bid Herrie se kerrie: Wintersadvies Herrie se kerrie: Juffrou de Kock die geheime wapen teen swak OG-verslae Blik Oor sê oor vervalste geld Gebroeders Steyn se monsterskoppe WP Nel: Wat is in Loeriesfontein se water? Iets fassinerends aan losskakels Herrie se kerrie: O-VS lewer beste rugbymanne Lewer ook helde op Herrie se kerrie: Humorsin Herrie se kerrie: Die (benoude) gladdebek Herrie se kerrie: Van watter affêre Iets by die koffie? Hulle vlieg so lekker want hulle lieg so lekker... Op die bus Brief van Blik Oor: Zuma se toekenning Herrie se kerrie: Onskuldig in die sop Blik Oor: Dianne se gekruide parlementêre taal Herrie se kerrie: Bittersoet van plaasskole Kennis van die aand want dis lekker in die donker Herrie se kerrie: Die swaeltjies Kleurryke geskiedenis Die ding in die huis wat niemand sien nie... Die hart van outisme Herrie se kerrie: Kortstondige skool Om Nederlands deur ‘n Afrikaanse bril te lees laat die lense toewasem

Sokkerpolitiek
Sokkerpolitiek in Suid-Afrika kom al van ver af. Buthana Komphela en Seppie Frolik kan gaan slaap as hulle dink hulle het politieke inmenging in sokker uitgedink. En selfs Griekeland, Kenia en Iran wat al hieroor uit Fifa geskors is, kan gaan slaap. In die Namakwaland in is dit al lankal uitgevind én vervolmaak. Pa-Jan se suster, tannie SC, het vertel hoe hulle kleintyd daar op Nieuwoudtville sokker speeltye by die skool gespeel het. Dit was die dae van Smelters en Gesuiwerdes, en die grootmense se politieke verdeeldheid het so diep geloop dat dit na die kinders deurgeloop het. Pouses was dit die Gesuiwerdes wat die Smelters op die “sokkerveld” die stryd aangesê het. Of liewer, hul kinders. Die sokker wat die kinders opgedis het, kan dalk nie met die poer-poer sokker wat nou by die wêreldbeker opgedis word, vergelyk nie. In elk geval nie wat entoesiasme betref nie. Pa-Jan het gesê dit het soos twee spanne honde gelyk wat ‘n vlakhaas op die sportterrein jaag. Die bal, die vlakhaas, en die speler wat eerste by was, het dit ongeag die posisie op die veld, met alle mag na die opponente se pale geskop. Gelukkig was daar nie skeidsregters nie, want sou daar wees sou die rooikaarte gesorg het dat die wedstryd gou oor sou wees, selfs te gou vir klein pouse. Danksy ds. Steenkamp, wat later ‘n rukkie Amerika toe is en met sy terugkeer gesê het is nou ‘n mediese dokter, en toe SAP-parlementslid geword het, was daar in hierdie kol bietjie meer Smelters as wat mens andersins sou verwag. Maar die bakleilus tussen die Gesuiwerdes en Smelters was hier nie minder erg as elders in die land nie, soos Ladybrand se stadsaal se deftige voordeur wat kosyn en al uit die muur uit gebaklei is. Kom maar op enige dorpie, soos byvoorbeeld Philippolis, en gaan kyk in die vendusiekrale se stoor hoe lyk die stoele van daai tyd. Dit was sulke hout opslaanstoele wat sulke lang rye aanmekaar vas was. Heel stewige stoele, maar waar mens hulle raakloop is daar ook genoeg in die stoorkamer wat mens laat wonder hoe daai stoele so flenters geraak het. Hulle is so gebaklei, man. Vat nou so ‘n lang ry opvoustoele, ‘n fris boer en ‘n paar politieke opponente. Dan is daai ry stoele darem ‘n gawe mokerding. ‘n Fris boer kan met een hou maklik vier gesuiwerdes, of ses smelters buite weste moker. Dít, het wyle pa-Jan vertel, is hoekom so baie van daai stoele in daai treurige toestand is. En as Johny de Lange met daai voltreffer in die parlement op dr. Manie Schoeman gedink het hy het die resep uitgevind om iemand van party te laat verwissel, is hy maar laat. Soos ek die storie onthou, was daar die aand in Calvinia se stadsaal ‘n politieke vergadering, en in die skoolsaal nog een. As dit nie was dat pa-goed gesê het die Smelters het nog opvoeding nodig gehad nie, sou ek nooit geonthou het wie was in watter saal nie.

Maar die Gesuiwerdes se spreker was, anders as die Smelters s’n, droog en oninspirerend. Heeltemal uit pas met die hitte van die politieke era. Ook nie lank nie, vlieg ‘n man in die gehoor op en skree: “Ek sê, kom ons los hierdie vergadering, en gaan d*nder die Smelters!” Die spreker ag dit sy plig om die grondbeginsels van demokrasie neer te lê. ‘n Rukkie is dit stil, maar toe is dit weer so. Nog ‘n ongeduldige lid van die gehoor wat meen dis veel aptytliker om die Smelters te gaan d*nder. Weer paai die spreker. Toe ‘n vyfde lid van die gehoor opvlieg en meen dis beter om maar hier te los en die Smelters te gaan regsien, is die spreker self half m*erig. “Wil jy my nou wysmaak jy sal ‘n Smelter regged*nder kry?” “Ja! Ek was ‘n Smelter, en hoe het ek reggekom? Ek is regged*nder! Ek sê ons los hierdie vergadering en gaan d*nder die Smelters!” Teen hierdie goed-beredeneerde logika, wat so suiwer uiteengesit is, had die spreker geen verweer nie. Die manne stroom uit, sommiges met die lang rye opslaanstoele onder die arm, en sit af skoolsaal toe. G’n niks ‘n gesissie-storie soos Julias wat die polisie opdrag gee om sy opponente te laat toesluit nie. Dis selfhelp-politiek op sy allerbeste. Later het die baie bekende storie ook uit hierdie dampkring ontstaan. Die referendum oor republiek of nie, is onderweg, en mense vir en teen die republiek reis die land vol en spreek vergaderings toe. Natuurlik werk dit nie vreeslik nie, want elke groep gaan luister na hul eie sprekers, en dus oortuig niemand vir niemand nie. Maar een maer mannetjie waag dit om by ‘n pro-republiek-vergadering op te daag. Toe die spreker sy storie klaar gestorie het, vlieg die mannetjie op, en skree: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?!” Die spreker verduidelik geduldig, maar is net klaargepraat, dan vlieg die mannetjie weer op en gil: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?!” So met die vierde opvliegslag had die fris tante wat reg agter hom gesit het, genoeg. Sy druk hom op die skouers plat, terug in sy stoel in, en toe sommer die stoel heel flenters, terwyl sy kliphard vir hom sê: “Sit str*nt, ék sal jou beskerm?” Hiermee is die argument vir die republiek toe ook gewonne. Pa-Jan en tannie SC het baie staaltjies van ds. / dr. Steenkamp vertel, maar dis ‘n storie op sy eie. Johan van Wyk, jare lank Volksblad se skrywer van die rubriek, Stop van Myne (nou Goeiemôre na die dampielus so teenspoed gekry het), het by geleentheid ook iets oor dr. Steenkamp as politikus se wel en weë geskryf.

Sy groot verkiesingsbelofte was die bou van ‘n groot dam. Maar toe dr. Steenkamp verkies is, is hy vort Kaap toe en in sy kiesafdeling so skaars soos hoendertande. Die dam, nog skaarser. Naderhand is dit weer verkiesingstyd, en dr. Steenkamp maak ‘n slag sy opwagting. Die bloed kook behoorlik oor die beloofde dam waarvan niks gekom het nie. Met vraetyd is dit sommer die eerste vraag ook. Nou wat van daai gebeloofde dam? “Nee,” verduidelik dr. Steenkamp, hy was skaars in die parlement toe verduidelik hy die behoefte aan die dam. En daai dam was sommer dadelik so te sê gebou ook, toe breek die oorlog met die Duitsers uit. “Toe dink ek so by my sigselwers, maar as daai dam nou vol reën en die Duitsers kom en bombardeer daai dam, dan loop versuie al die goeie mense hier oor die Knersvlakte tot by die see. Ek sit toe dadelik af na die minister toe en pleit dat die dam tog nie gebou moet word nie.” Van Wyk skryf hiermee was die argument goed gewen, en die dak lig behoorlik soos dr. Steenkamp toegejuig is. Maar hierdie storie moet mens dalk nie te wyd laat loop nie. Netnou lees pres. Zuma dit, en gaan bedink hy iets om vir die massas te verduidelik hoekom hulle nou eintlik so geseënd is om sonder beloofde dienste oor die weg te moet kom. Soos: “Mense, dink net, as julle behoorlike dienste gehad het kon julle ook stort. En, so klink dit my na ‘n bohaai, stort werk nie teen vigs nie. Dink net hoe gelukkig is julle om in die basins te moet was.” Ja, nee, bring my enigiets oor vandag se politiek en ek sal bewys dat dit al ou, ou nuus in die Namakwaland in was.

Hoedeversierings in die Namakwaland in
Ouma-goed het van Mosselbaai se wêreld gekom. ‘n Somer sonder die see sou tot haar dood ondenkbaar wees. As jong afgestudeerde is haar eerste musiekpos egter op Nieuwoudtville, waar sy kort voor lank met die bankbestuurder, oupa Harry, afhaak. Oupa Harry het nie maklik aan sy geleerdheid – bankpapiere – gekom nie, en moes hom opwerk. Kort-kort is hy onder sy meisie uit verplaas. Pa-Jan sê hy het ‘n raam gehad vir die meisie se portret. Trek hy, gaan die raam saam, en op die nuwe dorp kry hy ‘n nuwe meisie wie se portret in die raam in kom. So was hy nie meer heeltemal vandag se kind nie toe hy met ‘n bloedjong ouma Lita afhaak. Vier kinders was gou op die toneel, maar die jongste is ongelukkig kleintyd oorlede. Nou soos ek aan Pa-Jan verstaan het, self lankal saliger, was daar wat die see betref drie soorte Namakwalanders. Die soort wat vakansies see toe trek na

plekke soos Hondeklipbaai aan die Weskus toe, ander wat nie juis erg aan die groot dam gehad het nie, en die wat na die warmer water by Mosselbaai uitgewyk het. Maar die wegblyers was mense van hul eie. Soos oom Maans Louw wie se bure so aangedring het hy moet een kersvakansie ook saamkom see toe. Een jaar kry hulle hom omgeloop, en toe die ander nog so besig is om kamp aan die Weskus op te slaan, toe is oom Maans en sy vrou-goed, ta Mieta, en die kroos ook daar. Ywerig help die gesoute kampenaars vir oom Maans-goed tent opslaan en die kampplek regkry. Maar so deur die loop van die dag siet oom Maans maar hier kom mos nou moeilikheid. Die see is besig om vol te loop, en die branders spoel al nader en nader na sy kampplek toe. Toe hy sien die bure merk nie die naderende gevaar op nie, gaan maak hy alarm. Hy het juis gehoor dit het so kwaai in Basotholand gereent en die Oranje kom so sterk af, Kanoneiland neek al om te versuie. Die bure glimlag, en beduie van getye. Getuies is hofgedoentes en oom Maans bly lugtig. Die aand gaan slaap almal na ‘n heerlike fees van kabeljou. Die volgende dag is die Louws skoonveld – tente, kampbedjies, die hele lot. Net die spore oor die duine binneland in verklap daar is koers huis toe gevat. Later verneem die ander, kon die Louws glo nie rus kry met die see wat so raas nie, en het toe verkas. Sommiges het bly meen oom Maans het die see wat so volloop nie gevertrou nie. Die benoudheid moes regtig groot gewees het, want om terug by Nieuwoudtville te gekom het, moes Van Rhynspas uit. En oom Maans had ‘n Model T-Fordjie, en dié neek met die opdraandes uitry uit. Die soort karretjies moes die pas agteruit uit“reverse” sodat die petrol met swaartekrag in die enjin kom inloop. En daai se tyd was die pas nog half soos sy agterent, en oom Maans moes goed benoud gewes het om daai pas so in die donkerte uit agteruit te ge- “reverse” het. Maar oupa-goed het seevakansies, soos ‘n klompie ander mense, teenoorgestelde kant toe gery om by die see te kom. Almal is nou al afgesterf wat betrokke was, maar smaak my daar is so Calvinia, Matjiesfontein om Mosselbaai toe gery. Land-in. Of Oupa Harry se kar nou ‘n Model T-Ford was, weet ek nou nie. Wat ek wel weet is dat die kar nie juis ‘n bak gehad het nie. Die bagasie is met strêppe op ‘n “carrier” op die kar se skuins agterkant vasgemaak. Ook weet ek hoede was daai tyd hoog in die mode. Tot haar dood het Ouma nog sulke ronde kyste gehad. Vir die hoede. Elke kys kon ‘n hele lot hoede vat, en as die “carrier” klaar gelaai is, pryk daar ‘n hele lot ronde kyste agterop. Vir elke dag omtrent ‘n hoed, en vir party dae ‘n spaarhoed of twee.

En so word die pad binneland toe aangepak. Oupa Harry en ouma Lita voor, en pa-Jan, sy kleinboet Rons en ous SC agterin, saam met nog ‘n klomp bagasie want tot haar dood het ouma Lita enige moontlike spasie gebruik as verskoning om nog bagasie in te pak. Om binneland in te ry het egter ‘n lastigheid. Hekke. En nie sommer enige hekke nie, maar smoelslanerhekke. Oupa Harry bestuur, en hy kan nie die hekke oopmaak nie. Ouma sou nie droom om hekke oop te maak nie, en sy het eers jare na sy weduwee geword het, en die sestig al geslaan het, ‘n liksens loop kry. Die kinders is nog klein en het te min murg in die pyp om smoelslanerhekke sonder die gevaar van ernstige ongevalle oop te maak. Maar so is daar darem geleentheid vir vakansiewerkies vir die bruin kinders, wat gelukkig nog nie deur ‘n verbod op kinderarbeid verfongfaai is nie. So ry so ‘n bruin mannetjie buite op die spatbord saam ‘n ent die binneland in, en hoop dan om weer so ‘n geleentheid terug te kry. In ruil vir die geneek met die smoelslaners kry hulle ‘n ietsie. Pa-Jan sê hulle was al dóér, toe oupa in die truspieël sien een van die ronde kyste moes oopgegaan het, want daar is besig om hoede te makeer. Oupa Harry slaan ankers aan, en hy en die kleingoed peul uit om die skade te gaan betrag. Ja-nee, die een kys het oopgekom en al amper al die hoede makeer. Pa-Jan sê hy het nog so met die terugkykslag gesien hoe die naaste hoed soos ‘n tolbos die bossieveld in hol tot dit teen ‘n bossie gaan vassit het. Maar nie voor dit ordentlik ver van die pad af gerol het nie. Oupa en die kleingoed reken daar is nog genoeg hoedens oor vir die vakansie, maar ouma Lita skop vas. Terug sal daar getrug word om die hoede te gaan bymekaar maak. “Daai hoedens sal een een de lot getsjarra word,” het sy beslis in haar aangeleerde Namakwalands gesê Die bruin seun op die spatbord skop egter vas. Hy mag dalk nie ‘n vakbond hê nie, maar hierdie wending, weet hy, is duidelik nie in sy werksbeskrywing ingeskryf nie. Hy staak. En hy bly ook sommer net daar. Daar is toe g’n ander genade nie. Hulle ry terug, en pa-Jan en boet Ronsie moet saamspan om die smoelslaners oop te kry. Tot sy dood toe had pa-Jan ‘n heilige respekte vir smoelslaners. Hy kon in sy Namakwalands in die fynste besonderhede uitlê hoe so ‘n smoelslaner kan maak. Jy span al jou krag in om daai stok uit die lussie te kry. En wanneer dit gebeur moet jy klaar ‘n hand los hê om die stok stewig te vat, anders hoor jy net WOER! soos daai stok gatskoonmaak om die paal om en WAP! soos dit jou teen die kop tref. En as jy uit die stof en gruis opstaan, moet jy weer die stok vasgetrek en deur die lussie kry, met die wete jy kom netnou weer hierlangs na die laaste hoed ingehol en gevang geraak het. Pa kon nooit met sekerte sê hoeveel myl hulle teruggery het, en hoeveel hekke hulle mee moes spook nie, maar smaak my dit was baie.

Renosterstories
Neef Ferdie is ‘n wildboer, en renosters is sy ding. Ferdie is nie sy regte naam nie, maar die leser sal teen die einde besef hoekom ‘n nom de arnoster aangewese is. Boonop verkies neef Ferdie swart renosters. Dit het glo niks met kleur te make nie, maar eerder met die humeur. Die swart renoster, so verstaan dié stadsjapie, is effens kleiner as die wit renoster, maar die swart humeur van die swart renoster het ‘n paar opspraakwekkende historiese aantekeninge tot gevolg gehad. Soos die ene wat kort na die Engelse ‘n spoorlyn Kenia se binneland ingebou het, besluit het hy soek net niks sulke raserige indringers nie en die lokomotief bestorm het. Die slag was so hard dat die lokomotief onklaar bly stoom afblaas het, terwyl renoster se kind sy kop ‘n slag of wat geskud en weggestrompel het. Neef Ferdie se gunsteling renoster het ook sy naam gekry. Ferdie die renoster was naderhand half mak vir neef Ferdie, maar versigtigheid is nooit oorboord gegooi nie. Soos dié slag wat neef Ferdie skielik gesê het: “Laat waai!” Ons laat waai. Veilig in die trok verduidelik neef Ferdie: “As daai renoster sy ore begin wikkel en sy stert swiep...” Kort hierna is Ferdie saam met ‘n paar ander renosters verkoop. Die laaiery is nie al te maklik nie, veral nie as dit swart renosters is nie. Hulle moet verdoof word en dan is dit ‘n liederlike stuk bedremmelde gewig om te laai. Neef Ferdie kyk die storie so. Ferdie die renoster wei nog heel rustig te midde van die rumoer en neef Ferdie wonder of soveel drama regtig nodig is. Ferdie die renoster was legendaries bekend hoeveel hy van lemoene hou. Meer as een keer het die wildsheining dit ontgeld as ‘n lorrie met ‘n vrag lemoene verbyry mark toe, want Ferdie kan iets vreesliks ruik. Veral lemoene. Neef Ferdie gaan haal ‘n paar lemoene, en a la Hansie en Grietjie word lemoene tot agter in die trok ente uit mekaar gesit. Ferdie vat die buit, en stap al loemsopspuitend heel rustig tot agter op die bak. Toe word gespring, en die trok toegemaak. “Toe leer ek hoekom renosters, in elk geval swart renosters, nie so getrok word nie.” Die trok was net toe, toe strip daai swart renoster sy moer iets allerverskrikliks. Sommer gou is dit duidelik as daar iets van die trok moet oorbly, moet Ferdie daar afkom. Die bak word oopgemaak en almal laat spaander, want nie eens ‘n ton lemoene sou nou Ferdie se bui gou laat sak nie.

Ou Pula het ‘n mank been, en Ferdie pik op hom. Net, net betyds haal Pula ‘n stewige karee, en soos neef Ferdie sê, met die afkomslag gryp Pula een van die boonste takke vas. Maar Ferdie die renoster se briekse en belyning is nie heeltemal skerp genoeg om betyds op Pula se “disappearing act” te reageer nie, en hy dryf daai lang neushoring tot by die neusgate in die karee in. Neef Ferdie sê almal wil nog verlig raak, want ‘n karee laat so ‘n neushoring soos ‘n bajonet vassuig. Maar watwou, Ferdie die renoster is gans te die hoenders in om hom so te laat vang. Hy begin ruk, met die gevolg daai boom werk soos ‘n kleilat en hy slinger vir Pula in ‘n blinkblaar in. Almal wou nog wonder of Pula dit oorleef het, toe trek hy al vyftig meter verder, met die helfte van sy oorpak wat in die blinkblaar agtergebly het. Nou moet ek darem ter versagting bysê as ek nou dalk half wyd met die waarheid omgaan, neef Ferdie las partykeer dinge by sy stories om dit interessanter te maak – nie lieg nie, maar ‘n stadsjapie kan dalk nie agterkom dis spekskiet nie en dit vir die waarheid opdis. Vertel neef Ferdie, daai karee staan toe op klipperige grond, en met die gespook lig Ferdie die renoster die boom met wortels en tak uit daai losserige bodem. Hy skud sy kop ‘n slag of wat woes, en daar trek die boom. Nou moet ek eers weer ‘n draai gaan maak om die storie te kan vertel soos dit is. Ma het in haar dae voor sy met pa getroud geraak het, vir ‘n Engelse klas Afrikaans gegee. By geleentheid moes die klompie opstel skryf oor ‘n jagervaring. Bygesê, destyds is renosters nog gejag, en nie net gestroop nie. Die een knaap se storie handel oor sy pa wat gaan renosterjag het. Maar toe “wond” hy die renoster. En toe gaan soek daai renoster die man wat hom gewond het. “Die renoster is so kwaad, hy kyk agter hierdie boom, en hy kyk agter daardie boom.” Die probleem is, sê ma, die Engelse kinders raak soms vreeslik deurmekaar met die Afrikaanse “y”, en die “a” wat in Engels mos ook as “y” uitgespreek word. Dit was dus nie soseer ge-“kyk” wat die renoster so agter die bome gedoen het nie. Dié storie het al lankal by neef Ferdie uitgekom, synde hy ook so met renosters deurmekaar is. “Daai Ferdie was so kwaad, hy het nie eens gebodder om agter die bome te gaan kyk nie. Dis net die ene bolle.” Nie lank na Ferdie die renoster se vertrek nie, kry neef Ferdie ‘n beter aanbod en verhuis na ‘n ander provinsie. Ook hier word op die wildsplaas met renosters gespesialiseer.

“Ons koop toe ‘n plaas by om uit te brei, en natuurbewaring kom doen inspeksie. Terwyl hulle die kamp inspekteer wei daar ‘n klompie springbokke in die kamp wat maar daar was toe ons die plaas gekoop het. “Een van die Natuurbewaringsmense bekyk die springbokke skepties, en vra toe vir neef Ferdie: ‘Dink jy daar is genoeg springbokke vir die renosters om te eet?’ “Nou kan ‘n man ook nie eens lag nie, want of hulle nou iets weet of nie, hulle het wye magte en kan ‘n man se aansoek afkeur.” “Ja’” lag ek saam. “Soos almal weet vreet renosters eintlik rooibokke.” “Ja, nie springbokke nie.” Gelukkig nie want daar het juis 'n ruk gelede ‘n klompie uitgediende springbokke uit Europa aangekom.

Sondaghaas
Neef Abrie was nog jonk toe sy pa hom en sy broers en susters ontval het. Abrie se ma is die oorlede ou dominee se tweede vrou, en daarom was Abrie heelwat jonger as sy pa. Maar ouderdomsverskil ten spyt, was daar ‘n baie hegte band. Vertel Abrie van die geleentheid, lank-lank gelede, toe sy pa predikant by op ‘n dorpie doer in die Bosveld van die huidige Noordwes was. Eintlik uitgestrekte plaaswêreld. Daarom het die Boerematriek ook nog soos in die ou dae plaasgevind. Hier teen die einde van die jaar, word daar een naweek behoorlik gekerk. Van vroeg Vrydag af trek die karre en waentjies langs die rivier in, en meld die jongklomp hulle vir die Boerematriek aan. Die hele Saterdag deur woel die dominee en ouderlinge met die klomp, en die wat genoeg van die Bybel weet, word die Saterdagaand aangeneem. Die ouer mense kuier ‘n haas uit die bos uit, en die jongklomp wat al voorheen Boerematriek agter die blad gekry het, speel met ‘n sokkerbal. Daar is gans te veel dubbeltjie om gelak te word en rugbyspeel is uit. Sondagoggend is dit voorstelling, doop (vir die kleingoed) en daarna Nagmaal. ‘n Lang diens. Met so ‘n lang diens staan die katkisante toe die Sondag in hul kispakke en netjiese rokke en mooiste hoede mooi voor die preekstoel in gelid, om aan die gemeente voorgestel te word. Buite die kerk sit al wat dorpsbrak is vir hul mense en wag. Met so ‘n naweek het die hondegeledere gewoonlik ook heelwat plaasversterkings bygekry. Sommiges sit kiertsregop voor die deur waar hul huismense in verdwyn het, en wag dat hulle moet uitkom. As daar iets in die kerk gebeur, soos dat gesing word, word

die koppe skuinsgedraai, en ‘n oor die lug in gesteek. Later word die kop na die ander kant gedraai, en die ander oor gelig. Dis gewoonlik die jonger honde wat die ding nie gewoond is nie, wat die kerkdiens so met aandag volg. Die ouer honde soek vir hulle ‘n lekker koelteplekkie uit, en slaap doodgewoon tot hul mense uitkom. Dié Sondag was egter bestem om ietwat anders te verloop. Een van die jong woelige honde snuffel-snuffel al om die kerk, en daar jaag hy ‘n haas op! Binne ‘n ommesientjie is die hele lot honde al blaffend agter die haas aan. Die honde wat agter die haas aan is, is ‘n bonte mengelmoes. Kort op die haas se hakke is die windhonde. Eintlik meer skralerige, vinnige honde, as wat hulle enige bloedlyntoetse sou slaag. Dan kom die gewone plaas-waghonde, die rifrugge, die basterboele en selfs ‘n foksterriër of twee. Elke soort hond het sy eie soort blaf, wat tot die versteuring van die Sondagoggend se gewydheid bydra. Daar is die hoë keffies van die klein brakkies, en die diep blaffe van die Boele. Alles is in beweging, sodat dit die desibels nog so op- en afjaag. Lekker deurmekaar geroer deur die verskillende snelhede waarmee die bewegende gebit agter die ongelukkige haas aankom. Soos ‘n dwarrelwind suig die hondekommando boonop die dorpsbrakke wat die lawaai hoor, ook in. Ook ‘n los brak of twee wat in die omgewing was, besluit hy gaan sy geluk op haasjag beproef, en skraap ook die voortsnollende haas. Aanvanklik is die haas lekker windmakerig – ore regop, en wip onnodig hoog om die oog van sy agtervolgers so veel as moontlik te vang. Met die hoog-hoppery kan hy ook makliker flous oor die rigting waarin hy gaan. Net soos die naaste brak se bek oopgaan vir ‘n bol haasstert, wip hy effens skuins, gebruik sy stert as flikkerlig, en vlieg dan in ‘n ander rigting. Dié taktiek is een te veel vir ‘n opgewonde brak, wat al ploeg - ploeg van rigting moet verander, en terselfdertyd luidkeels sy ongelukkigheid met dié toedrag van sake te kenne gee. Gewoonlik val ‘n klomp honde boonop oor die voorste hond wat in sy poging om van rigting te verander, met moeder aarde kennis maak. Dinge begin later half ingewikkeld raak vir die haas. Veral toe hy benewens tant Souf se vet Boeldokhond ook van die ander brakke van agter begin verbyhol. Dié sit so ‘n keel op, dat die gevaar bestaan dat ‘n hond vorentoe straks kan begin omkyk, en kortom kan vlieg. Buitendien begin die haas ook nou moeg raak, en hy lê toe die rieme met sy ore styf teen die kop neer. By die naaste hoek van die kerk, wys die haas met sy stert hy gaan wegdraai van die kerk af. Maar hy kierang, en vlieg teen die anderkantste muur af. Die honde wat kort op sy stertjie was, kry nie hul draai so mooi nie, en gaan draai al keffend en tjankend doer by Oom Basie se sinkdam. Dan skraap hulle die haas weer.

Weer glip die haas kort om die kerk se volgende hoek, en weer gaan draai die lawaaierige honde doer ver. Dis net Tant Souf se vet boeldokhond wat rustig agterna draf en so af en toe ‘n hees “Hoef! Hoef!” laat hoor om te wys hy is darem deel van die jagekspedisie. Die haas is om die volgende hoek, en maak dit weer vir die hoek waar hy begin het. Weer gooi hy sy stertjie vir regs, en vlieg links om. Die keer is van die honde al so losgehardloop dat hulle om Oom Basie se sinkdam gaan draai. En hulle raak al kwater vir die haas wat hulle so flous. Binne die kerk wil hoor en sien vergaan van die honde se gejuig al agter die haas aan. Amper soos met ‘n motorresies. Die klank wat al harder word, en dan weer al sagter soos die spul daar ver gaan draai as die haas kortom vlieg. Die haas is naderhand al ‘n hele paar keer van agter by tant Souf se boeldokhond verby. Toe die moeë haas weer ‘n slag by die kerk se hoek, met die klomp klappende kake hier kort agter hom, kortom vlieg, draai hy te kort en is hy by die kerk se deur in. In die proses verloor die honde hom heeltemal, en gaan in ‘n kring om die kerk aan’t blaf. Die uitgeputte haas wip ondertussen al in die gangetjie af, na waar die katkisante netjies in ‘n ry voor die preekstoel staan. Langs die een op die verste punt, gaan lê die haas op sy pens, en trek sy ore plat met die hoop dat hy tog nie raakgesien moet word nie. Maar omtrent almal wat kon sien, het gesien. Die dominee inkluis. “Broeder”, beduie hy vir die koster, “Verwyder asseblief die haas”. Die koster stap nader, en buk voor die haas met die gedagte om hom op te tel. Die haas kry egter lewe, en spring teen die koster se bors vas. Die koster kry nog luidkeels ‘n woord wat nie in die kerk hoort nie uit, voor hy so uit soos ‘n kers neerslaan. Die haas vat koers onder die naaste bank in. Hier van voor af kan ‘n mens mooi sien hoe die haas vorder, want so ver soos hy gaan spring die tantes heel onwaardig op die banke. Neef Abrie het nooit gesê wat van daai haas geword het nie.

Bran de Wijn
Deesdae kan aangehoudenes ook stem. Maar stem is nie al wat dié manne kan doen nie. ‘n Koshuismaat het regte geswot, en vakansies tuis by Worcester gehelp aankla. Een van sy bekendste “kliënte” was Jafel. Dié het so gereeld in die beskuldigdebank gepryk, hulle kon daai konstruksie al “Jafel se tafel” noem.

Hoe Jafel aan sy naam gekom het, is ‘n storie op sy eie. Soos die oorlewering loop, had Jafel ‘n Slamse oupa, Jaffer. Dié naam, het Jafel geërf. Maar hier in Worcester in val Jaffer half vreemd op die witmense se oor, en ‘n paar van die manne het, na hulle gesien het hoe vernuftig Jafel ‘n bottel kan kis maak, hom Jafel begin noem. Daai storie eindig toe ook nie daar nie. Agter die witmanne aan, het van die bruin mense hom toe ook so begin noem, maar dit as Dzafel uitgespreek. Dié naam het weer na die witmanne toe teruggewerk, en naderhand het almal Jafel as Dzafel uitgespreek. Op ‘n mooi dag word Jafel weer in die hof ingebring. Dié stap twee rye spore, en kan nie aangekla word nie. Die tweede beskuldigde word ingebring, maar hy het duidelik ‘n soen van die dame met die lang nek weg. Ook die derde is erg gekoring, terwyl die vierde duidelik ‘n dinee van Bacchus bygewoon het. Uiteindelik moet al die sake van die manne wat in die selle was oorstaan. Op ‘n manier het van Worcester se spogprodukte in die selle beland. Die volgende dag is dit of die aanklaers dubbel sien, want dis presies dieselfde storie. Derde dag was egter skeepsreg. ‘n Sersant word betrap waar hy koeldrankstrooitjies aan die manne in die selle verkoop. Met dié strooitjies gewapen, kan hulle deur die venstertralies tot in die geut buite bykom, en dié is soos Sasol se spreekwoordelike pype vol brandewyn. Nie heeltemal brandewyn nie, maar daai erg gegiste doppe wat oorbly as die skoon wyn afgetap is. Dié goed is sterk – die drinkers daarvan se trots. Soos een vir Herrie se oom Rons gesê het, hy drink petrol ook, maar dan moet dit BP wees. Hoewel die sersant tien uit tien vir entrepreneurskap moes kry, het hy ook ‘n voltal met dwarsboming van die gereg losgeslaan. Nooit in die annale van Worcester se hofgeskiedenis is daarna soveel manne met babelas aangekla nie. Dié keer sou ‘n grandpa-verkoper goed geld gemaak het. Maar gewoonlik het Jafel heel nugter agter sy “tafel” beland. Hy het ook so met die jare baie goed gekonfyt geraak met die dinge van die hof, en baie bedrewe daarmee om homself te verdedig. Hy het selfs vir die tronk se sokkerspan gespeel, al was hy nie altyd “in” nie. Van die manne in die selle wat by hom advies gekry het (in ruil vir ‘n ietsie) was spyt Jafel het – behalwe vir sy eie gevalle – nie verskyningsbevoegdheid gehad nie. En so kontant was jafel naderhand dat hy, wanneer hy die staatsgetuie onder kruisverhoor geneem het, na die aanklaer as sy “geleerde vriend” verwys het. Dit het die ervare aanklaers uit hul siele geïrriteer as Jafel so na hulle verwys. Maar nie naastenby so erg soos wanneer een glip en na Jafel as “my geleerde vriend” verwys nie. Die koshuismaat het egter nie omgegee nie. By Jafel het hy waardevolle ondervinding opgedoen wat hy nie sommer by die universiteit gekoop sal kry nie.

Net een keer het Jafel regtig sy rieme in die hof vasgeloop. Dit was nie eintlik sy regskennis en –vaardigheid ontbreek het nie, maar danksy die miskenning van Kaaps, die bruin manne se taal, as hoftaal. En natuurlik ‘n effense toeloop van omstandighede. Maar om hierdie insident in konteks te kan vertel moet eers bietjie meer van jafel en sy vaardighede te wete gekom word. Die lawaaiwater en Jafel se verbintenis daartoe lewer menige staaltjies op. Jafel was naamlik ‘n kampioen-vingerbokser. Die gevolg was dat die bendemanne lugtig was vir die man se vingerboks-vermoë, maar hy tog gereeld iewers heel kis gelê het. Om Jafel met die vingerboks in aksie te sien is iets besonders. Sy handspoed is verstommend, en sy reflekse, selfs wanneer hy gekoring was, uit die boonste rakke. Dis die aardigste as hy sy vernuf demonstreer, en sy vingerpunte kon ‘n millimeter van jou oë af tot stilstand. En het my kamermaat my verseker, die hofordonnanse het hom verseker as Jafel jou speels met die vingers in die ribbes pomp, is jy vas oortuig jy het ‘n borskasoorplanting nodig. Nie ‘n enkele heel rib nie, glo jy vas. Die geneigdheid was dus om half wyd van Jafel te bly as hy die slag kapabel was. Dit was chaos toe Jafel nog rugby gespeel het. Voor rustyd het die opponente al hulle reserwes opgebruik. En Jafel is ook g’n so baie gegeelkaart en gerooikaart soos mens sou verwag nie – Jafel se handspoed het daarvoor gesorg. Na oorleg tussen die klubs is besluit om Jafel van flank na vleuel te skuif, maar dit het ook gelol want Delicious het geweet om die bal net na Jafel te skuif om ‘n drie te kry. Niemand het gewaag om binne Jafel se verwoestende vingers se trefafstand te kom nie. So is Jafel toe na sokker “verban.” Maar een ding was sy baas...die lawaaiwater. Eendag tref die eerwaarde hom toe ook aan waar hy in ‘n droë watervoor lê. Die domineesgoed gee hom so ‘n paar stywe sole in die ribbes, en toe Jafel sy ooghe oopkry, en min of meer gefoukus kry op die kwaai bakkies wat op hom neerkyk, vra domineesgoed: “En toe Jafel, as die Here jou nou moet kom vat?” Jafel se instinkte is sterk, en met sy vingers wat so pons – pons die lug in, sê hy dreigend: “Dis darem ook nie sommer net vir kô vat nie.” Nie dat Jafel onverskillig oor die godsdiens gestaan het nie. By geleentheid pikpik hy weer straat af, met sy kompas wat heel duidelik ‘n elektriese storm beleef. Dis net toe lat die pastoor met sy bakkie verbykom. Agterop had hy ‘n paar jong gemeentelede wat goed geesgevang het. “Ons gaan hemel toe, ons gaan hemel toe!” sing die spannetjie so ver soos die bakkie gaan.

Jafel steek vas, oorweeg die storie ‘n oomblik, en toe brul hy agter die bakkie aan: “Vat my sjaam!” By geleentheid is Jafel weer by Jafel se tafel aangetree. Hy en ‘n ander skollie het handgemeen geraak, en dié het oor sy seer ribbes by die Dienders loop kla. Toe die landdros inkom, is Jafel nogal verlig. Hy en die dié man het al ‘n lang geskiedenis, en hul verhouding is eintlik heel gemoedelik. By geleentheid het die landdros, na hy Jafel oor iets gevonnis het, en Jafel sy gebruiklike preek oor goeie burgerskap gekry het, ligtelik opgemerk hy hoop nie om Jafel gou weer hier te sien nie. Jafel was niks stadiger as die Wes-Kaap se bruin manne as dit kom by gevatte sêgoed nie: “Gaan djou ônner dan biekie byrrie see uithang?” Maar dié dag het die gemoedelikheid in die slag gebly. Jafel kon nie weet dat die landdroste opdrag van bo af gekry het om die bendebedrywighede en skolliegeit strenger te begin vasvat nie. Daar moet begin word om ‘n voorbeeld te maak van die belhamels. En Jafel is as so ‘n belhamel beskou. Maar van al die intriges weet Jafel niks, en nog minder sy vrinne wat die besoekersbanke kom vol pak het nie. Jafel word na ‘n lang verhoor (wat hy self veroorsaak het deur die klaer intensief aan ‘n uitmergelende kruisondervraging te onderwerp) skuldig bevind. Jafel hef sy gereelde rympie aan as versagtend...st swaar grootword, die sosioekonomiese omstandighede, apartheid... Die landdros val hierna weg met vonnisoplegging. Hy haal uit die aantal aanrandingsake se statistieke aan, die vooruitsigte van rehabilitasie van geweldsmisdadigers, die vernietigende uitwerking van die bendekultuur... Jafel het intussen besef hy moet intensief begin luister. Hier word nou sake geopper wat nog nooit voorheen genoem is nie. “Iewers moet die hof nou die voorbeeld begin stel om hierdie euwels met wortel en tak uit te roei.” Jafel hou niks van wat hy hoor nie. Maar, besef hy, dis nou ‘n gawe plek en tyd om bek te hou. Trouens, besef het, dit sou ‘n nog gawer plek gewees het om nou heeltemal te makeer het. “Ek vonnis jou tot ses maande gevangenisstraf.” Op sy uitspraak het die landdros al 12 maande ingeskryf, maar hoe nader hy aan die oplê van die vonnis gekom het, hoe jammerder het hy die verwese figuur voor hom begin kry. Hy sal maar netnou in sy kantoor die “skryffout” gaan regmaak. Maar toe kom die eintlike ramp. En dis als Kaaps en die taalding se skuld. “Appleal, appeal!” gil een van Jafel se geskokte maters hier agter uit die besoekersbanke.

Jafel, wat sy hele verhoor in nogal keurige Afrikaans gevoer het, besef nie die man daar agter het nié in Afrikaans geskree nie. Jafel meen die man het pas die landdros in Afrikaans ‘n baie lelike ding genoem. Plegtig draai Jafel by sy tafel om, en betig sy mater: “’n Pi*l se moer, hyse f*k*en d**s.” Ongelukkig vir Jafel was die landdros, op pad uit, nog binne hoorafstand. So gebeur dit toe dat Jafel met minagting van die hof geslaan word ook. En ook dat die landdros se wens om Jafel “nie gou weer te sien nie” ook bewaarheid word. Na st vrylating het Jafel ‘n ruk die reguit pad bewandel. Letterlik. Maar nie lank nie, toe is die versoeking te groot, en kuier hy by die Ghutter waar die sokker op ‘n groterige TV gewys word. Dié aand, op pad huis toe, is hy met twee rye spore kortpad huis toe, maar onderweg oorval die vreeslikste ramp hom. Of liewer, nie oorval nie, inval, want hy stort in ‘n leë graf in. Heeltemal te gepleister om uitgekruip te kom. ‘n Ruk later kom Kerneels verby, wat self goed gekuier het. “Help my, ek kry koud,” kerm Jafel uit die graf. Kerneels strompel tot gevaarlik na-aan die graf se rand en loer in: “Nou vi wat het djy djou dan ook oopgeskop?” en met dié strompel hy min gespin verder. Dis al goed donker, en Jafel het in ‘n hoekie gaan sit so opgetrek in ‘n bondeltjie, om so warm as moontlik te bly. Met dié kom Eric verby, ook goed gekletter, en val by Jafel in die graf in. Hy weet niks van die geselskap daar in die hoek nie, en steier regop om te begin kyk na maniere om uit die penarie en die graf uit te kom. “Het djy dalk da’ vi’ my ‘n mêtsjie?” verneem Jafel uit sy hoek uit. Maar sy woorde is skaars uit, toe is Eric sonder vat los by die graf uit, en reeds op vol spoed toe hy buite grondvat. Toe hulle die oggend Jafel stokstyf uit die graf haal, toe wys sy vingers nog dreigend die lug in. Hy is nie sonder ‘n stênd gekomhaal nie.

Duskant die longdrop
Die Afrikaanse vertelkuns loop omtrent net so gereeld by die outydse gemakkies verby soos Afrikaanse TV-stories met ongetroude meisies in die ander tyd opgesaal sit. Dis nou, soos Worsie gesê het, oor die tou geval het.

Neem nou maar die storie van die knaap wat oplet die gemakkie langs die rivier is al taamlik weggekalwe onder. So betrag, besluit hy dit gaan nie veel moeite verg om van die longdrop ‘n duikboot te maak nie. So gedink, so gedoen. Later kom sy pa by hom. “Boetman, die Amerikaners het ‘n president gehad. Sy naam was Abraham Lincoln. Eendag saag hy die kersieboom af van stoutigheid. En toe sy pa vir hom vra of hy die kersieboom afgesaag het, toe sê hy ja, en omdat hy nie gejok het nie het sy pa hom nie gelooi nie.” “Ja pa,” maar Boetman se verstand werk oortyd oor sy pa hom die verhaal so uit die bloute kom vertel. “Het jy die kleinhuisie in die rivier laat val?” O ja, nou sien hy, en sy pa bied sommer ‘n reddingsboei om nie geklop te word nie. “Ja pa,” antwoord hy eerlik. Toe sy pa hom klaar geklop het, wil Boetman in trane weet hoekom sy pa hom nou so gelooi het, terwyl Lincoln se pa nie, net oor hy eerlik was. “Ja, maar Lincoln se pa was nie in die kersieboom toe dit afgesaag is nie.” Dan leef die storie voort van Koos wat na ‘n goeie oes en ‘n “gesig” neffens sy huis vir olie laat boor het...teen almal se advies in. Na ‘n kilometer en ‘n half die dieptes in is daar nog net kurkdroë ysterklip, en Koos se bankbestuurder skop vas. Koos benut toe maar die verleentheid deur ‘n lo...o...o...ng drop oor die gat op te sit. Volgens alle inligting is dit die gemakkie met die diepste gat ter wêreld, en die inwyding is ‘n groot geleentheid met die burgemeester en ‘n verteenwoordiger van die administrateur in die skare. Uiteindelik is dit sulke tyd, en Koos is koerant onder die arm in vir ‘n ringsitting. Maar hy kom nie weer uit nie. Naderhand word plegtig geroep, en toe op die sinke gehamer, maar Koos is doodstil. “Ek dink daar het metaangas uit die gat gekom en Koos oorval,” sê die skoolhoof en onverwyld word die deur afgebreek. Daar sit Koos potblou op die troon. “Oom, verduidelik klein Koos aan die dokter, “my pa het die gewoonte om sy asem op te hou tot hy hom hoor val.” Jors Troelie se oupagrootjie, oupa Pieter de Necker het op Petrusburg loop aftree, waar hy ook naderhand burgemeester was. Toe word oupagrootjie 90, en van oor die hele land kom kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Aangevul deur die ander kennisse se kleingoed, is die groot dorpswerf vol kinders, wat eers te heerlik speel maar naderhand opgeskeep raak. Opgeskeepte gesonde kinders is ‘n tydbom.

Destyds had oupagrootjie se huis reeds ‘n binne-gemakkie, maar met so baie mense is dié vertrekkie slegs vir die dames. Die mans moes in die agterplaas die trappies op na ‘n deur doer bo, en ‘n klein deurtjie doer onder aan die agterkant, gerieflik binne bereik van die nagwa. Nie ‘n honderd jaar nie, toe is kattekwaad uitgedink. Die jongklomp gaan sit in ‘n plaat op die grasperk reg oorkant die voorste deur. Dan, sodra daar ‘n slagoffer binne is, glip die “afgevaardigde” na die klein deurtjie, maak dit saggies oop en laat loop met ‘n handvol gruis die hoogtes in. Dan moet die “toeskouers” in detail aan die “afgevaardigde” verslag doen van die reaksie. Naderhand bly die “afgevaardigde” sommer agter, en doen sy ding. Die terugvoer was te identies om elke keer te kom verneem, en dis snikheet warm. Toe kom daar fout. Ta’ Hannie kon nie meer wag vir die een wat almal in die binne-gemak ophou om klaar getittewyt te raak nie, en sy durf die trappies in die agterplaas aan. Nou is daar ‘n probleem, want die “afgevaardigde” het agter vir sy volgende slagoffer gewag, en was salig onbewus daarvan dat die jongste slagoffer buite perke was. Die kort en die lank is dat ta’ Hannie die huis in is, en nog voor mens kon sê “mes” toe gaan die deur soos ‘n koekoekhorlosie se deurtjie oop en ‘n stroom grootmense storm met enige denkbare slaanding by die deur uit. Nooit in die heugenis van Petrusburg het so baie kinders op een slag so erg siepsop gekry nie soos op oupa se negentigste verjaarsdag. Maar Herrie had nog ‘n oupagrootjie. Dié het ook in die negentig geword, maar is kort daarna oorlede net mooi toe ma met my in die kraamsaal gelê het. Ma sê sy het pa baie jammer gekry, want hy was baie erg oor dié oupa van hom, maar toe hy van die begrafnis terugkom, is hy dik van die lag. Die begrafnis was in Mosselbaai, en voor die ter aardebestelling het die kis op bokkies op die stoep gestaan. Dié stoep het oor die see uitgekyk. Maar merk pa, oupa se seun, oom Tienie, loop wye draaie om die bokkies, ook na die begrafnis toe ‘n klomp begrafnisgangers op die stoep kuier. Daar was inderdaad min dinge waarvoor oom Tienie nie bang was nie ... trouens, hy was legendaries daarvoor. Maar die stoep het nie net oor die see uitgekyk nie. Die stoep het ook oor die agterplaas uitgekyk, en heel onder op die verste hoek, die buitegemakkie. Seker oom Tienie se ergste vrees was engtevrees. Toe dit dan sulke tyd is, en oom Tienie die gemakkie moes opsoek, moet sy wederhelf, tannie San, saamgaan. Omdat die deur weens oom Tienie se vrees nie heeltemal toegemaak kon word nie, moet tannie San buite kywie hou. Maar soos oom Tienie, was tannie San ook ‘n opperste platjie. Met oom Tienie gemaklik op die troon, glip tannie San terug stoep toe, gryp die twee bokkies,

stap terug gemakkie toe, en druk die twee bokkies by oom Tienie in die gemakkie in, druk die deur toe en skuif die buiteknip in. Dit alles gebeur ten aansigte van die mense op die stoep wat so gepak soos die skou se pawiljoen is. Pa sê dit was so ‘n rukkie doodstil, toe skiet die deur heel uit sy skarniere uit dat dit doer trek. Toe vlieg die bokkies uit die gemakkie uit, gevolg deur oom Tienie wat histeries, broek op die enkels, die bokkies fyn en flenters spring.

Jagtog op die Knersvlakte
Toentertyd, het pa Jan vertel, het ‘n klomp Amerikaanse studente as aspirantjagters op die Knersvlakte beland. Hoewel die storie oor hoe hulle hier gekom het, ‘n storie op sy eie is, handel hierdie verhaal veel eerder oor hul “Namakwalandse ervaring.” Dus maar net so vluggies oor die aanloop drawwe. Die drie, Thomas Bains, Richard Brightstone en Herman Gowalski was die telge van skatryk Wall Street-makelaars. Kort voor hulle klaar maak met skool, gaan kyk hulle ‘n swart-en-wit Tarzanprent. Toe kon dit nie hoër of laer nie, hulle wil ook na die “hunting grounds” in Donker Afrika gaan. Uiteindelik is ‘n kompromis met die ouers aangegaan. Hulle kan ‘n jaar “in Africa” gaan studeer, en dan hulle make gemaak kry. Uiteindelik beland hulle by Ikeys, waar hulle terstond die byname “Tom, Dick en Harry” kry. Hier spandeer hulle, tot groot vermaak van die ander Ikeys en met baie van die wal-in-die-sloot-advies, die meeste van hul eerste kwartaal vir hul groot safari “up North”. Maar die Vrydagmiddag breek uiteindelik aan dat hul Jeep gepak is. Alle belangrike toerusting is ingepak. Dit sluit voldoende drank, slaapsakke, vuurwater, tente, voggies, kos, likiede bates, gewere, skoplafenis, baie ammunisie, drank en ander minder belangrike bykomstighede in. O ja, ek moenie van die drank vergeet nie, want dié het ‘n baie belangrike rol in dié verhaal gespeel. So juig die spannetjie die Vrydagaand na donker die Paarl in. Hulle bemerk ‘n man wat vier rye spore loop, ‘n algemene Bolandse verskynsel teen sononder op ‘n Vrydag. Hulle is op soek na ‘n gids wat hulle “up North” sal kan neem – na die “hunting grounds” toe. Ou Jacob word genader. Fout. Jacob stem in. Hy mag sleg gesuip wees, maar sy paar breinselle is darem nog nie doodgesuip nie. Hy gewaar in die skemerte die Bachussop in die Jeep, en hy het familie in Vanrhynsdorp wat hy graag wil besoek. Hy klim terstond op, en beduie in ‘n koers. Skaars het die wiele begin draai, of Jacob is in droomland.

Net buite Vanrhynsdorp word “kamp” opgeslaan. Dis egter al amper sonsopkoms, en met al die voggies wat deur die nag gevloei het, kry Tom, Dick en Harry hul lê in die oopte. Die tente is gans te ingewikkeld om opgeslaan te kry. Die sonbesies raas al oorverdowend toe Tom, Dick en Harry met die vreeslikste koppe wakker word. Van Jacob en ‘n taamlike deel van die vog is daar geen teken nie. Die situasie word ontleed. In plaas van om in ‘n tropiese woud wakker te word, is hulle op ‘n kaal haai vlakte. Hulle onthou egter Jacob het hulle met die kampopslanery verseker hulle het in die “hunting grounds” gearriveer. Hulle kry koers die vlakte in. Destyds was die Knersvlakte nog nie so van drade toegespan nie. Nie lank nie, brand die woedende Namakwalandse son van reg van bo af. Hul watersakke is lankal leeg, maar die ander vog hou nog. Hulle soek iets om te skiet, maar al wat beweeg, is die dansende hitteduiwels. Uiteindelik gewaar hulle iets. Aan die agterna-verduidelikings kon dit enigiets van ‘n meerkat tot ‘n kangaroe of selfs dalk ‘n boerbok gewees het. Hulle lê aan en skiet, tot die “slagoffer” maar naderhand verkas. ‘n Ruk later gewaar hulle weer iets roer. Gelukkig, voor hulle losbrand, merk hulle dis ‘n man te voet. Hulle ry nader, en kom by ‘n trens aan. Dis nou die manne wat so van plaas tot plaas geswerf het en in ruil vir kos, onderdak en ‘n ietsie allerlei herstelwerkies gedoen het soos skoene regmaak. “A, ‘n potensiële gids,” meen die manne. En ja, die trens sal saamry. Maar skaars het die Jeep weggetrek, of die trens het al ‘n bottel vuurwater teen die mond, wat nou ook al vuurwarm is. So ry hulle, terwyl die trens – wat nie ‘n woord Engels verstaan nie, net kort-kort in ‘n rigting beduie. En toe, net voor hulle wil handdoek ingooi, sien hulle ‘n volstruis op die horison. Hulle besluit om op dié gedierte los te brand tot dit ook verkas. Die volstruis bekyk die geraas met sy plat bakkies, en toe iets naby sy kop verbyvlieg, druk hy sy kop in ‘n gat. ‘n Ruk later bekyk hy weer die raserige gedoente my sy plat bakkies. Dit klink soos ‘n jong oorloggie, en in die proses wek hulle die “gids” wat ondertussen ook aan die slaap geraak het. Hy strompel regop, en beduie dat hy ook ‘n skoot wil hê. Tom, Dick en Harry besluit dit kan dalk net sports wees. Hulle maak die trens slinger-slinger staan op die Jeep se neus, en stop hom ‘n baster olifantgeweer in die hande. Die trens druk die loop in die rigting van die volstruis, en terwyl die loop sulke groot sirkels in die lug trek, trek hy die skoot af. Die slag lig die trens uit sy verslete skoene en slinger hom op die plat Knersvlakte neer dat hy skoon tussen die bossies deur op die gruis skuif.

Tom, Dick en Harry wil hulle breeklag, maar die trens strompel regop, klap die ergste stofwolke uit sy gelapte klere, en beduie in die rigting van die volstruis: “Lets ghou fets hôm” beduie hy. Tom, Dick en Harry sy koppe ruk soos hulle omkyk, en jou waarlik, daar lê die volstruis bene in die lug! Dis ‘n flink ent se ry om by die gevalle voël te kom. Verbaas roep Harry uit: “ He’s shot the thing through the head!”

Oom Brokkie se kontrêpsie
As jy aan Skuinstevlei dink, dink jy aan Oom Brokkie. En as jy aan Oom Brokkie dink, dink ‘n mens aan ‘n vreeslike klomp goed. Sommer so gelyk. Maar meestal dink ‘n mens aan ‘n man vir wie se hande niks reg staan nie. Of ‘n regte ongeluksvoël, en alles wat daarmee gepaard gaan. Oom Brokkie is oud. So oud dat almal in die ouetehuis al vir hom Oom sê. Wat nie beteken dat Oom Brokkie afgeleef is nie. Tot ‘n jaar of wat gelede was Oom Brokkie nog ‘n verskrikking op die rugbyveld. Darem nie as speler nie, maar as skeidsregter. Want het iemand nou iets oor Oom Brokkie se jongste kontrêpsie gesê, wat nie vir die Oom alte vleiend geklink het nie, dan het die hare die Saterdag op die rugbyveld gewaai. Want sien, Oom Brokkie dateer uit die dae lank voor neutrale skeidsregters. En elkeen wat na Oom Brokkie se smaak hom te na gekom het, het of self rugby vir Dorp, of Spoorweë gespeel. Of daai een het iemand geken, of was verwant aan iemand wat vir een van die twee spanne gespeel het. En so ‘n sondaar se span het die komende Saterdag les opgesê. Soos die slag toe die kaptein van Dorp in die konsistorie laat val het dat Oom Brokkie nou vir seker tender om te verongeluk met sy nuutste gier, waaroor ons nou-nou meer gaan vertel. Ongelukkig vir die kaptein het Oom Brokkie pas selwers ingestap, en hom gehoor. Daai Saterdag het Dorp dit ontgeld. So erg dat ‘n vlakhaas eers na rustyd uit die helfte van die veld wat Spoorweë voor rustyd moes verdedig, gejaag is. Maar terug na Oom Brokkie se kontrêpsies. Hy had ‘n alewige strewe daarna om te verbeter op al wat ryding is. Dit dateer glo al uit die tyd van die perde- en donkiekarre uit. Toe dit nog net perde- en donkiekarre was, het dit glo nog gegaan, behalwe daai een keer. Dis toe Oom Brokkie ‘n wiel in die middel van sy laaiwa geprakseer het om te keer dat die wa in die middel ingee met die swaar vragte bouklip wat hy uit die berg aangery het. Die patent het tot ‘n punt gewerk, maar teen ‘n opdraandetjie het die vrag effe agtertoe geskuif. Oom Brokkie het dit nie agtergekom nie, maar toe het die voorwiele nie meer lekker grond gevat nie. Dit was nogal ernstig, want dit was

die draaiwiele. Met die gevolg dat Oom Brokkie, sy span muile, die wa, die vrag klippe en Oom Brokkie in die spruit beland het. O ja, ek het al van Oom Brokkie gesê. Maar toe die petrolgoed eers op die pad kom, toe lol Oom Brokkie se patente. Hy kon aanvanklik nie self ‘n karretjie koop nie. Maar die eerste een wat verongeluk het, se stuurwiel het hy gekoop. Dié monteer hy toe op sy perdekar. Met ‘n vreeslike ingewikkelde kombinasie tooms en ratte had hy toe ‘n stuurwiel. Nie baie suksesvol nie, maar dit kon min of meer stuur. Weliswaar moes ‘n mens links draai om die perde te laat regs, en andersom. Hiermee het Oom Brokkie nooit mooi vertroud geraak nie, met die gevolg dat hy ‘n hele paar keer in die hospitaal beland het, en ook ‘n paar keer nuwe perde moes koop. Tot die DBV hom gedreig het, en die stuur-kontrepsie afgehaal is. Toe hy uiteindelik self petrol-rygoed kry, was die ambisie vir verbeterings nie minder nie, net heelwat minder suksesvol. Met die modes het hy goed bygehou. Soos die slag toe hy van turbo begin kennis neem het, en opsluit sy eie afgeleefde Angliatjie wou turbo. Aan vindingrykheid ontbreek dit toe ook nie. Min of meer kom dit toe daarop neer dat hy met ‘n pyp uit die uitlaatstelsel van die ekstra uitlaatgasse terug in die blok in gepomp het. Om die ekstra druk te kry, sien. Die Angliatjie - dit wat herkenbaar na die karretjie was na die modifikasies gedoen is - het sommer op een slag op die skrootwerf beland, en Oom Brokkie amper in die begraafplaas. En dis hier in die hospitaal waar Oom Brokkie se nuwe patent die lig gesien het, wat indirek tot die vlakhaas se rusversteuring gelei het. ‘n Vliegmasjien. Of eerder seker ‘n vliegkontrêpsie, as dit wat die kontrepsie gedoen het ooit vir vlieg gekwalifiseer het. Oom Brokkie het niks aan die toeval oorgelaat nie. Wel, amper niks. Sy aanloopbaan het meer aan ‘n lanseerbaan herinner. ‘n Skotige bultjie op sy plaas is hiervoor ingespan. Dae lank het die skroppe ‘n reguit pad teen die koppie uit, en anderkant weer afgemaak.. Bo op die knop is twee reuse trekkerwiele sonder buiteband gemonteer. Lekker fris toue is aan ‘n waentjie vol klippe gepak wat bo-op die knop gemaak staan is. Die toue is oor die twee wiele gespan wat as katrolwiele moes dien. Vandaar, na die onderkant van die randjie, loop die twee toue tot waar dit aan Oom Brokkie se vliegmasjien vasgemaak is. Die waentjie moet nou anderkant afhardloop en oom Brokkie se vliegmasjien spoed gee teen die randjie uit. As hy bo kom, is dit op eie krag die bloue lug in. Dis die teorie. Die vliegmasjien self. Wel, dit kan ten beste beskryf word as ‘n paar stukke sinkplaat, styf met bloudraad aan ‘n raamwerk vasgedraai. ‘n Ou trekkersitplek is die stoel. Die perdekar van vanslewe se stuurwiel is weer ingespan, en n fris

kragparraffinpomp is in ‘n enjin omskep. Iets wat soos ‘n kruis tussen ‘n motorbootskroef en ‘n windpomp se lemme lyk is die - soos oom Brokkie dit gestel het, propeller. ‘n Onpaar kruiwawiele rond die prentjie af. Alles mooi rooi geverf. Min of meer die hele dorp en die hele omtrek se plaas-kleingoed is die dag daar toe Oom Brokkie die lansering aanpak. Niemand glo Oom Brokkie sal die bloue lug haal nie, maar niemand wil die dag misloop as die Oom die noodlot ‘n slag te veel uitgedaag het nie. Baie waardig klim Oom Brokkie agter die stuur in, skuif sy stofbril oor sy oë en swaai sy serp reg. Filemon moet die enjin se tou trek. Dit kry hy eers reg nadat Oom Brokkie ‘n tweede keer uitgeklim het en ou Filemon net lelik moes koes. Dis Saterdagmiddag, en Filemon het by voorbaat Oom Brokkie se groot oomblik gevier. Die enjin brul, en die vliegmasjien verdwyn binne ‘n ommesientjie in ‘n reuse stofwolk. Dan kom Oom Brokkie se stem bulderend uit die stofwolk: “Klaas, laat waai!” Dit beteken Klaas moet die waentjie op die knoppie aan die ander kant begin afstoot. Klaas hoor nie, maar die toeskouers het gehoor, en wys en swaai vir Klaas. Hy laat waai! En Oom Brokkie se lansering begin. Al vinniger en vinniger snol die gedoente die randjie uit, later half uit die uit die stofwolk uit. Dit lyk naand skoon die ding het lus om aan’t vliege te gaan. Bo-op die randjie kom daar toe moeilikheid. Niemand, Oom Brokkie inkluis, het gedagte gehad dat die tou daar bo gelos moet word nie. Dié is stewig aan die onderstel vasgebind. Die vliegmasjien ken toe net een baas, en dis die voortsnollende waentjie. In plaas van op, gaat Oom Brokkie se vliegmasjien toe af, agter die waentjie aan. Die waentjie haal egter die onderkant, en keer tussen die klippe om. Oom Brokkie siet hier kom groot fout! “Briek, briek!” gil die oubaas, maar daar is min wat die toeskouers aan die voortsnollende gevaarte kan doen. Daar tussen die einste klippe het hulle Oom Brokkie meer dood as lewend loop uithaal, en hospitaal toe geneem. Daar het sy dogter uit Pretoria haar pa op die Bybel laat belowe hy is klaar met dié streke. Skaars is sy by die deur uit, of Oom Brokkie fluister vir die dominee. “Dominees, as ek net my voet daar kon bykry om die tou los te trap, het ek seker nou al daar duskant Bethlehem loop draai. Luglangs,” voeg hy by net om alle moontlike misverstand uit die weg te ruim. Hy wis nie hy was dae lank in ‘n koma nie, en die kragparaffien sou lankal nie meer gehou het nie.

Oom Brokkie is later dieselfde jaar weggeneem na daar waar niks onmoontlik is nie. Hy het in die bad op ‘n koekie seep gegly.

Teenoorgesteldes
Oudste werk die vakansie op 'n wildplaas. Hy geniet dit skynbaar – of so moet 'n mens aflei – want hy SMS dat hy dit "gatte" uit geniet. Hy ly bietjie aan die nuwe SA se spelkwaal. Maar dit laat my self dink aan 'n geleentheid, 'n klompie jare gelede toe ek vir die regering kruis en dwars oor die land moes ry en verskillende soorte boerderye moes aandoen. "My neef, Karel, is 'n wildboer daar anderkant Middelburg en Stoffberg," sê 'n kollega toe ek nog dié soort boerdery uitstaande is. Dus word die afspraak gemaak. As ek nou die regte grondpad-afdraai geraai gekry het, en so dertig kilometer die kloof in is, kry ek weer hul afdraai. "Ou Sunshine sal daai tyd daar in die hoek wees, by die hek." Sunshine, so blyk dit, is 'n buffelbul. Toe hy die eerste keer op die plaas gekom het na hy elders hans grootgemaak is, het hy namiddae in daai hoek melasse gekry om hom te laat aanpas. Nou soek hy daai melasse steeds. Dis so half vier die middag toe ek by Sunshine kom. Ek hou stil en meen om Sunshine, synde so 'n ligstraaltjie van 'n naam, se kop bietjie te vryf. Maar so met die uitklim lyk dit of Sunshine van daai melasse 'n vreeslike seer tand het. 'Donderweer' staan oor sy hele bakkies geskryf. Hy stamp vererg met sy horings aan die wildwerende heining. Dus is ek maar weer terug in die bakkie en ry opstal toe. Om Sunshine by daai donderweergesig te bring laat my onwillekeurig aan Jan Spies se storie oor Waaksaam, die lui plaashond dink. Die werf is oënskynlik stil – half 'n vreemde ervaring vir my met my aankoms op vreemde en minder vreemde plaaswerwe. Met die ding van plaasaanvalle is daar gereeld honde op die werwe wat tekere gaan of hulle moet leeus of iets gebaster moet wees. By die voordeur, styf teen die gaasdeur, kry ek die boerboel. Ek praat saggies met hom, maar in plaas van 'n woeste opvlieg en tande uitpak, verwerdig hy hom om sy oog wat boontoe wys, se lid so halfmas op te trek. Wat hy dromerig gewaar, lyk nie na iets wat die moeite werd is nie en die ooglid val weer dig toe. Ek leun oor die hond en lui die klokkie. Na 'n ruk doem neef Karel anderkant die gaasdeur op.

So met die groetslag begin hy die deur oopbeur, wat beteken die waghond word behoorlik oor die stoep geskuif. Want opstaan staan hy nie op nie. "Sie jy Waaksaam!" raas Karel. So, hy het ook Jan Spies se stories geluister. Waaksaam is 'n volbloed-boerboel. Boerboele het 500 gesigsuitdrukkings, waarvan 499 hartseer of verwytend is. Verwytend, met sulke wit omdopoë kyk Waaksaam sy baas aan wat hom so onsagkens met die gaasdeur versteur. 'n Ruk later is dit weer sulke tyd, want dis warm in die kloof en Karel se vrou, Karen, stel voor ons gaan drink ons lafenisse onder die kareeboom buite. Terwyl ek so aan my leeuplesier teug, voel-voel ek iets aan my broeksak pluk, en kyk in die vraatgesig van 'n vlakvark vas. Die varkogies die ene opwinding oor 'n lekkerny wat dalk uit daai sak kan kom. "Sie-jy Sunlight, gaan speel in jou modderbad." Sunlight was lanklaas, indien ooit naby Sunlight, of enige ander seep. Hy trippel weg, antenna kiertsregop. 'n Teug of twee later sê Karel skielik vir Karen: "Kyk, hier kom Twiggie haar kalfie vir ons wys!" Ek kyk in die rigting waarin hy beduie, en sien 'n yslike dik seekoei aangestap kom met 'n koeëlronde kalfie aan haar sy. Twiggie stap tot by ons, en dit is 'n blye weersiens. "Ek gaan haal gou vir haar 'n happie melasse," sê Karel, en stap-draf in die rigting van die stoor. Sunlight spring uit sy modderbad en val soos 'n uitgelate hond by sy baas in. As Waaksaam dan nou te lui is, sal hy wat Sunlight is maar as waghond instaan. Karen gesels met Twiggie, en dit blyk gou dié seekoei is hans grootgemaak. Sy is maar so twee jaar gelede by die ander seekoeie geplaas. Elke nou en dan kom wys sy egter oë. Skielik begin Twiggie aanstap huis toe. "Ag nee," gil Karen. "Net nie in die huis in nie." Maar Twiggie is op 'n missie. Vernuftig haak sy die skuifdeur oop, en kry al daai verwyt-omdop-oë van Waaksaam. Toe word die binnedeur ewe vernuftig oopgemaak, en Twiggie begin die huis instap. Of so het sy gedink. Haar kop en nek gaan in, maar toe dit by die skouers kom, haak sy vas. Daar tussen die bulle by die rivier nie genoeg op haar wilgerlatlyfie gelet nie, blyk dit. 'n Paar keer probeer Twiggie haar lyf deur die deur wikkel, en ek begin bekommerd raak oor die hoe standvastig hierdie huis dalk kan wees. Na 'n ruk blaas sy vies – vies die aftog, maar is weer die ene oorlamsheid self toe sy die melasse by Karel kry.

"Wat noem ons die kleintjie?" vra Karel vir Karen. Ek is die ene ore. "Tobie," stel Karen voor. Hulle lag. "Ja, heel gepas, hy gaan eendag net so groot soos Tobie Cronjé word." Ek kyk Tobie middeldeur om te kyk of ek iets kan sien wat my net naastenby aan Tobie Cronjé kan laat dink. Niks. Met aandete stap 'n pikswart kat die eetkamer in, en nog voor iemand iets sê raai ek sy naam is Whitey. Verkeerd. Dis Snowy. Die volgende middag ry ek huis toe. By Sunshine hou ek stil, en gee hom 'n klompie melasse wat ek by Karel gebedel het deur die wildwerende heining aan. "Darem een op die plaas wie se naam by hom pas – al is dit net soms," mymer ek terwyl ek verder ry.

Die slimste dier?
Elke wildboer sal seker sy eie mening hê oor watter dier op sy wildplaas die slimste is. Nie skelmste nie, soos die slag wat daar in Donald Murraylaan in Bloemfontein jare gelede by 'n huis begin hoenders wegraak het. Elke aand een. Destyds was Donald Murraylaan wel nog half op Bloemfontein se rand, maar die jakkalsspore by die misdaadtoneel lyk darem ewe waarskynlik afkomstig van die nabygeleë dieretuin as uit die veld afkomstig te wees. Maar by die dieretuin makeer g'n jakkals nie. Maar toe kom die mense agter die kap van die byl. Ta lê bedags sy siel en uitslaap, en snags haak hy sy pootjies in die ogiesdraad en klim oor sy kampdraad. By sy "restourant" doen hy dieselfde, en "bestel" sy wegneemete a la carte. Nou, met die sokker, is dit ook ‘n aardigheid watter soort diere alles geler is om “sokker” te speel. Van dolfyne tot slakke! Nee, seg neef Ferdie, en sy vroulief en kleinman beaam... die slimste dierasie waarmee hulle nog te make gehad het, is seekoeie. Die storie van die baba-seekoei wat by Malelane so tuis geraak het dat sy die deure self leer oopmaak en die beddens in die huis in hul maaie in gaan lê het is dus nie vir hulle eintlik iets om oor huis toe te skryf nie. "Nee, kyk," vertel Ferdie, "presies hoe slim die dierasies is ontdek ek toe ek 'n troppie moes vang en wegry."

"Ek maak toe 'n vangkamp 'n entjie van die rivier af, en gaan gooi lekker lusern in die kamp. Maar watwou. "Net een bul word afgevaardig om te gaan ondersoek instel, en met die terugkeer water toe dra hy vir die ander van die lusern saam. "So gaan dit 'n paar dae, en toe begin daar darem nog 'n paar saamkom. En hulle dra vir die res die voer aan. "Naderhand begin van die koeie saamkom, maar die kalfies bly agter in die water. "En mens kan hulle nie pyl nie. Pyl hulle en hulle hardloop reguit water toe en gaan versuip. En haal hulle nie die water nie, vrek hulle sommer." "Dus is dit maar geduld. "Na drie maande meen die spulletjie egter dis veilig en versit die hele spannetjie, kalfies inkluis, na die kamp om te gaan voer haal. Maar toe hulle binne is, word die hek toegemaak. "En toe is daai seekoeie vir jou kwaad! Ek moet toe draf om hulle met 'n kalmeerding te pyl, want hulle storm daai stawe waarmee die kamp opgerig is, en byt dat mens net sien en hoor tande breek. "Verskriklik die m*&r in dat 'n simpel mens hulle nou so kon uitvang!" Volgende keer word ander plan gemaak. Die lotjie was in 'n dam, en kon maklik met die "prodder" bygekom word. Maar die dierasies is dikvellig, en draai net die agterkant weg. Versit versit hulle nie. Neef Ferdie lei 'n negatiewe draad die water in, en druk die positiewe draad naby die naaste seekoei in. "Dis net 'n blou vlam, maar dadelik is daar 'n houdingsverandering by daai seekoeie. Dis so asof hulle laat weet: Jy wen, ons sal saamwerk." En sowaar, die eerste renoster draf na die sleepwaentjie, en klim in, en word weggery. Na 'n ruk kom die trok met die leë sleepwaentjie terug, en die tweede seekoei draf, en gaan klim in. "En so gaan dit met die hele lot." Daai waentjie is ook nie sommer so 'n waentjie nie. Dis ook die waentjie wat gebruik word om diep duttende renosters in hul nuwe tuistes te gaan aflaai. "Kyk, as jy by die plek kom, vat jy jou trok eers ver weg. Dan maak jy daai waentjie oop, en sorg dat jy self maar skaars is in die onmiddellike omgewing. Want as daai neushoring waker word en van daai waentjie afklim is hy m*&rig. Hy soek 'n sondebok, en al wat hy kan kry is daai waentjie. Daar is nie 'n band of flikkerlig heel, of 'n vierkante sentimeter nie geduik nie voor die renoster se bui gesak het."

Die gelanseerde geweer
Ons was al, in weermagterme, redelike ou manne toe ons op Rooikop buite Walvisbaai gestasioneer is. Teen daai tyd was die manne nie in veel meer geïnteresseerd as om te luister of hulle nie die min dae trein kon hoor aankom nie. En toentertyd het hy nog tussen die duine in die see geloop. So naby aan die see dat as ‘n mens half waterpas by die trein uitgekyk het, dit kompleet gevoel het of die trein in die see loop. Maar dit sou tog ‘n baie produktiewe tyd wees...dis nou in terme van gebeurtenisse. Aanvanklik het die manne die geleentheid benut om sommer so met die naweekpasse amper die hele Suidwes te gaan verken. Een het selfs ‘n meisie op Outjo aangeskaf, nogal ‘n vryersvernuf as ‘n mens die afstand wat sonder ‘n eie ryding aangepak moes word, in gedagte moes hou. En nog een is saam met kennisse van sy pa anderkant Windhoek vir wilddiefstal aangekeer. Maar toe word ‘n verbod op ryloop geplaas. Kort daarna verongeluk die Siekeboegsuster se kind op Duin Sewe, en ‘n verbod word op duinry geplaas. Toe beteken ‘n naweekpas ook nie veel meer nie as om Vrydagmiddag Rooikop uit te klim, en vir die manne wat nie pas het nie, te loop lag. Maar ou manne wat so vasgevang raak, raak op ander wyses produktief. Ek bedoel, watter luitenant by sy volle positiewe stuur ou man-kanoniers om vir hom sy pyp te gaan haal? En ruik, met permissie gesê, nie lont as die pyp sommer klaar gestop arriveer nie. Die luitenant, so ‘n lui Duitser, het nogal ewe dankie gesê vir die gaafgeid om sy pyp te stop. So drie weke later, nadat die kordiet in die pyp sy werk gedoen het, het die luitenant weer na ‘n Duitser gelyk. En hy het sy nuwe pyp maar altyd by hom gedra. Om die een of ander rede het die Pee-efs destyds besluit so ‘n maand of so voor ons uitklaar, is ‘n gawe tyd vir ons om met R-eens en blinde patrone kruis en dwars deur die Kuseb te loop, en skynoorlog te voer. Dis darem baie moeite vir ‘n ou man, maar ons het darem die kuns vervolmaak om tydelike basisse in ‘n japtrap in te rig en ‘n uiltjie te knip. Dis juis met so ‘n indommeling wat ek die verruklike geluid van ‘n roomyskarretjie se klokkie hoor aankom het. Dit was onmoontlik - ons is seker minstens dertig kilometer van duine van enige beskawing af, maar kopskud help nie. Die klok kom.

Tot die trop bokke binne-in ons basis inloop. Die plastiese blinde patrone, kortweg blênks genoem, het hulle tot veelsydige aanwending geleen. Veral die kuns om daarvan plastiese koeëls te maak, en dan gaatjies deur die voertuigloods waarin ons gehuisves is, se dak te skiet was saans ‘n gewilde tydverdryf. Dit reën mos nie eintlik daar nie, en wat is ‘n gaatjie in die dak nou? Maar terwyl ons nou daar in die verte was, was dit opmerklik hoeveel van die troepe se ouers het destyds toevallig besluit Suidwes is ‘n gawe plek om te gaan vakansie hou. So ook my ouers, en ek kry pas om die naweek op Swakopmund vir hulle te gaan kuier. Ek kom die Sondagaand terug by die basis. My vriend, André loop my by: “Jis Trompie, het jy gehoor wat Klaasvakie gemaak het?” Amper almal het byname gehad. In kort, die Saterdagaand het die manne weer soos gewoonlik gesit en die tyd verdryf met enigiets wat moontlik vir tydverdryf ingespan kon word. Die gebruiklike skyfskietery en die selfvervaardigde plastiese koeëls was seker die gewildste. Dis toe dat Klaasvakie besluit hy gaan vir iets besonders sorg. Hy laai sy R-1 met ‘n “blênk”. Toe sny hy nog sewe “blênks” oop en gooi die kruit voor by sy geweer se loop in. So mik hy dakwaarts om te kyk hoe ‘n groot lawaai dit gaan maak. Gelukkig kry die ander dit reg om hom om te praat om dit liewer buite te gaan doen. Ons 110 troepe slaap immers almal in die loods, en ‘n mens weet nooit wat gebeur nie. André vervat met sy storie: “Heng, vanoggend lê ons almal nog so en slaap toe hoor ons ‘n helse slag afgaan. Dit klink kompleet of iemand ‘n kanon in die basis afgevuur het. Ons storm uit. Agter die boonste ‘hênger’ kry ons vir Klaasvakie en vir Visagie. Klaasvakie staan nog daar in sy Pietiebroekie met sy hand in die lug. In sy hand hou hy sy R-1 se kolf vas! Klaasvakie en Visagie ewe wit geskrik”. Ons moes daarna vir weke rondom en in die basis in sulke lang rye loop en die stukkies van Klaasvakie se geweer soek. Die blitsbreker en magasyn is nooit gekry nie. Die magasyn het seker heeltemal gedisintegreer, en die blitsbreker, geoordeel aan die afstand waarop ons stukke geweer gekry het, seker gelanseer. Klaasvakie moes uiteindelik R87 skade aan die geweer betaal. En as iemand dink dis min, ‘n R-1 het destyds ‘n skamele R117 gekos. En toentertyd het ‘n man in die maande wat 31 dae gehad het, darem twee groen note soldy uitgekry. Korter maande was dit onder die twintig rand.

Op die waterkar
‘n Bekende ekonoom het by geleentheid gesê: “Hy wat nie in spoke glo nie, is nie ‘n realis nie”. Of het ek die spook straksies nou aan die neus beet? Nietemin, min troepe wat hul diensplig by Rooikop naby Walvisbaai gedoen het, sal nie in spoke glo nie. Toentertyd het daar ‘n luitenant Philips glo in die basis verongeluk. Van toe af, so is die een troepe-inname na die ander ingelig, spook dit daar. Selfs die mees ongelowige Thomas kan nie altyd alles verklaar nie. Soos hoe die Kanontrekker self by ‘n oop loodsdeur uitgery, self gedraai, en mooi netjies tussen twee Bedfords gaan stilhou het. Of saans, as die maan so helder skyn, die twee waghonde gelyk wegspring van waar hulle rustig by die wag gelê en slaap het, en verwoed na iets begin hap. Behalwe dat die wag niks kan sien waarna die twee honde so verwoed hap nie. Iets wat ook baie na spokery gelyk het, maar heel maklik verklaar kon word, was die gemors met die kleinhuisies. Die basis se kleinhuisies het amper soos putlatrines gewerk, maar was met ‘n ondergrondse geslote waterstelsel met mekaar verbind. Die stelsels is ontwerp om ‘n paar wagspanne te bedien. Maar toe kom bly ons hele battery daar, en die stelsel verstop. Maar die pompe hou aan met pomp, tot die spul van onder af uitblaas. ‘n Regte k*&-spul, met permissie gesê. Veral as jy op die troon gesit het as die ongeluk gebeur. ‘n Regte putstelsel word toe aanvullend gebruik. Maar te veel aanvullend, sodat die ou stelsel se inhoud te dun word. Met dieselfde gevolge. Dis toe dat die Sammajoor by die troepe pleit om tog die ou stelsel ook te benut. “Hy huil vir k*%!” het die Sammajoor beduie. Maar die toppunt was die slag toe ons gereed gemaak het om die volgende dag daar by Usakos te gaan oefeninge doen. Die troepedraers, met hul waterkarre volgemaak en aangehaak, word mooi in gelid getrek daar tussen die boonste voertuigloods, en die middelste een waarin meer as ‘n honderd van ons troepe gehuisves is. Alles net reg om die volgende dag te vertrek. Maar daai nag gaan ‘n Megirius in die boonste loods aan’t lope, gooi twee van die loodsdeure dat hulle doer trek, en peil op ons loods af. Maar voor hy dood en verwoesting in ons loods kon aanrig, tref hy een van die vol waterkarretjies. Die waterkarretjie is pap gestamp, maar nie voor hy die reuse vragmotor in sy spore gestuit het nie. Nou dis oor die waterkarretjie waaroor die storie eintlik gaan.

Twee van die troepe raak een naweek met hulself opgeskeep, en steel een van die jeeps om mee te ywôl. Met die Jeep gaan ry hulle toe boonop op die skietbaan waar die Infanterie besig was om met mortiere te skiet. Sonder seremonie word vuur gestaak, en die twee troepe gearresteer. Dis toe dat ons Sammajoor ingryp. Ons was almal mal oor hom, maar hy het twee wette van die Mede en Perse gehad. Die eerste is, ‘n Gunner maak nooit skande vir die artillerie nie. En die ander, geen troep kuier by sy mooi dogter nie. Laasgenoemde sou seker hedendaags as ‘n onbillike arbeidspraktyk deurgegaan het. Maar omdat die blou vitrioel wat hulle destyds by ons kos ingemeng het, nou nog nie begin werk het nie, het van die manne destyds maar skelm gaan kuier. Maar die twee troepe is nou vir ‘n anderster storie gevang. Soos ‘n wafferse skoolhoof wil die Sammajoor toe by hulle weet of ons hulle sommer self moet straf, of moet die gevreesde Empies ingeroep word. Dis toe dat die twee troepe met ‘n vol waterkar doer in die woestyn gelaat word. Hul straf is om die waterkar terug basis toe te sleep. Rooikop, seker dig by die 200 meter hoog, is ver. Omtrent so groot soos ‘n vingerhoed wat ver staan. Skaars is die Bedford buite sig, toe besluit die twee slim troepe ‘n vol waterkar is darem baie moeite om so ver te sleep, en hulle tap die water uit. Als. Maar skaars het die laaste watertjies in die gulsige woestynbodem verdwyn, toe steek die Oosweer op. Die Oosweer is die berugte bergwind wat oor die Kgomas Hochland ontstaan, en vuurwarm en kurkdroog oor die woestyn waai. En soos hy waai tel hy stowwe op, asook miljarde fyn stukkies mika wat die stofwolk so vreemd laat blink. En gewoonlik is ‘n mens se uitsig dan maar tot ‘n paar meter beperk. So sleep die twee makkers hul leë waterkar in die rigting van Rooikop, of die rigting waarin hulle reken Rooikop is. Maar as die stof bietjie gaan lê, dan sien hulle Rooikop lê skoon in ‘n ander koers. Dan weer soontoe loop, net om later te ontdek Rooikop is reg agter hulle. En terwyl die twee die woestyn platloop, reken ons alles is honkiedorrie, want hulle het genoeg water by hulle om hulle weke te hou. Dis al skemer toe die twee met die leë waterkar die basis ingesteier kom. Van die mika blink hulle dieselfde kleur, van hul stewels tot hul hoede. Dis net as hulle oë oop is dat daar twee wit kolle in die stofkleurige blink verskyn. En selfs daai wit was al goed dof.

Die *&% mot en die skuiwergat
My vrou vou behoorlik dubbel soos sy lag. Sy’s met tant Breggie oor die telefoon aan’t gesels. En as tant Breggie aan die ander kant, soos hulle sê, op die telefoon is, beteken dit ek moet hierdie kant

maar behoorlik wag om te hoor wat so snaaks is. Tant Breggie is nie skaam vir ‘n hoë telefoonrekening nie, en Telkom maak maandeliks ‘n goeie oes by haar. Toe ek uiteindelik aan die beurt kom, is ek teleurgesteld, want al is die storie hoé snaaks, geen digterlike vryheid kan die ontknoping deur ‘n ‘n ordentlike nievloekende skrywer behoorlik tot sy reg laat kom nie. Al is dié storie nou ook regtig egtig die waarheid, sonder selfs ‘n ou stertjie bygelieg. Maar laat ek probeer. Soos die ou Oom gesê het. “Bring vir my ‘n kind wat nie in die kerk gekriewel het nie, dan wys ek jou ‘n kind wat nog nie in die kerk was nie”. G’n wonder nie die wilde woordeboek se definisie van ‘n skuiwergat is iemand wat nie in die kerk kan stilsit nie. En al te dikwels is die skuiwer van skuiwergat later die oggend of sommer so tydens die diens met die woordjie “brand” vervang. ‘n Kind wat nie so nou en dan ‘n ou ietsie aanvang nie, maak grootmense se lewens ook maar saai. Selwers was ek al groterig toe ek ook ‘n ding met reperkussies aangevang het. Daai een keer wil die kerk toe mos basaar hou, en my sussie besluit dis ‘n gawe gedagte om ‘n spookhuis onder die kerksaal se verhoog in te rig. Maar dis die kerk se stoorplek, en ek en ‘n paar maters moet inspring om ‘n lekker korridor deur te kry, waardeur die kinders kan loop om bang gemaak te word. Ek het later verneem van die opgekommandeerde spoke was so entoesiasties, dat ‘n paar brawes wat nie vanself wou bang word nie, sommer daar onder in die spookhuis reggesien is. Met die plat hand en so aan. Dis met die skoonmakery daar onder dat ek en vriend Matie op ‘n kas leë Nagmaalwynbottels afkom. Nog so gewonder, toe raak die versoeking te groot, en ons gaan tap die bottels vol water. Maar as ‘n mens die prop afskroef, dan ruik dit steeds na die ware Jakob. Wat ons gedink het gaan gebeur, kan ek nie onthou nie. Maar ek kan dink wat sou gebeur het as daar die slag Nagmaal gehou is, en daar word geskink, en dis pure water! So ‘n week of so later besoek dr. Frans Burger, ons destydse predikant, die KJA. So terloops vertel hy daar is by die kerksaal ingebreek. Die diewe het die kerk se stofsuier daar onder die verhoog uitgehaal. En om die een of ander rede het die diewe ook die kas met leë nagmaalwynbottels weggedra. Nou ja, ek hoop daai diewe het ‘n duidelike boodskap gekry oor wat gebeur as ‘n mens die kerk se wyn steel.

Maar dis nie eintlik tant Breggie se storie nie.Vriende van haar laat doop daar op Kimberley. Vir die mense is dit ‘n groot geleentheid en hulle steek die hand diep in die sak om etlike groot blommerangskikkings in die kerk te laat sit. Al te pragtig. Maar die dopeling het ‘n ouboet van so net oor die twee jaar. En die ouboet is met die dopery en die min aandag wat hy kry, net min tevrede. Boonop is hy ‘n berugte skuiwergat, en die familie span saam om te kyk hoe dinge geprakseer kan word om hom die kortste tyd moontlik aan die kerkgangers bloot te stel. Uiteindelik word gereken hy moet by die ouma bly wat die dopeling die kerk moet inbring. Op die manier is ouboet minstens tot en met die doop in die konsistorie, en direk na die doop darem weer uit die kerk uit ook. En moontlik sal die doop van kleinsus darem sy aandag genoeg boei om hom ‘n rukkie stil te hou. Maar selfs die verkorte weergawe van stilsit is vir die mannetjie darem erg. Sy ouma se lippe is naand half seer van so tussen die tande deur vir die mannetjie sis-dreig om stil te sit, en nie so te gesels nie. Maar die blomme trek toe mos bye die kerk in. Een van die verdwaalde bye meen die kriewelrige kannetjie se poenskop is ‘n gawe landingsplek. Die mannetjie hou nie daarvan nie, en klap die indringer. Maar die indringer kry vir oulaas sy angel ingelê. “Eina!” gil die mannetjie. “Hoe byt so ‘n *&% mot my!” Sy eintlike byvoeglike naamwoord vir dit wat hy a la boklied vir ‘n mot aangesien het, moet leser welvoeglikheidshalwe ontneem word. Natuurlik is daar toe pandemonium in die kerk. Dominee versoek die orrelis om asseblief ‘n langerige stuk te speel om die gemeente en doopbesoekers kans te gee om tot bedaring te kom. Ek weet ongelukkig nie of die welsprekende se ouers gereken het die brand boop die kop was genoeg straf vir sy onvanpaste woordeskat nie, maar seker maar darem.

Van spietkops en boetebessies
Ons is almal gewoond aan die dikke getalle mense wat by ‘n minibus-taxi uitstroom. Net koppe! Maar wat ek nou die dag aanskou het, vat by wyse van spreke die koek. Een van daai “Oe, nou’t ek alles gesien”-karretjies hou by ‘n privaat skool stil. En dis net koppe, en nogmaals koppe. Dis toe dat ek tel toe hulle begin uitklim. ‘n Ronde tien!

Die bestuurder en nog twee kinders het in die karretjie agtergebly. Hulle is toe oppad na ‘n ander skool toe. Maar spietkops het dit nie alte maklik nie. Dan praat ek nie eens van daai keer toe my broer-hulle, toe hy nog in die polisiediens was, ‘n Spietkop aangekeer het omdat hy vermoedelik gery het terwyl hy ‘n paar drankies te veel ingehad het nie. Dis toe reguit distriksgeneesheer toe met hom. Maar helder oordag, soos dit was, was dit ‘n vreeslike gespook om die distriksgeneesheer aan die gang te kry. So dronk soos ‘n tor. Die arme spietkop, sy oë het soos pierings gestaan toe die medikus naderslinger om die naald te probeer inkry. Dan vertel my vrou my nog ook dié een wat sy gehoor het toe sy onlangs gaan bloed skenk het. Sy moes toustaan en die skenkers gesels toe so onder mekaar. Een vertel daar in die dorp waar hy eers gebly het, was dit tradisie dat baie mense gaan skenk het. Dan was die ander ondernemings in die omgewing gesluit, en was daar heelwat parkeerplek. Met, ongelukkig parkeermeters. Maar synde Saterdag, en met die ondernemings gesluit en alles doodrustig, het daar ook ‘n tradisie ontstaan om nie geld in die parkeermeters te gooi nie. Tot een Saterdag. Toe die skenkers weer by hul karre kom, pryk die kaartjies daar onder die ruitveërs. ‘n Spietkop se werk. Een skenker vererg hom so, vlieg om en gaan maak die vrou by die bloedbank op sy houer bloed skryf dat sy bloed onder geen omstandighede vir ‘n spietkop toegedien mag word nie. ‘n Boetebessie het by geleentheid ‘n bekende Rhodesiër laat aankla van aanranding met die opset om ernstig te beseer Ek sê Rhodesiër, want dié man was nie iemand wat hom sou laat beledig om ‘n Zimbabwiër genoem te word nie. Hy het Rhodesiese kleure in boks en bofbal behaal, en was boonop ‘n Reid-Daly, en daarby broer van die aanvoerder van die befaamde Selous Scouts. Dus nie ‘n man om sonder handskoene aan te pak nie. En tog het sy paaie met die gereg gekruis. Nee, seg hy in die hof, hy het die boetebessie g’n nooit aangerand nie. Ook nie vir haar daai lelike goed gesê nie. Hy het net vir haar gesê “buck up”. Hy weet nie wat dit beteken nie, maar dis ‘n ou Rhodesiese sêding. Die een getuie na die ander word geroep. Het hulle gehoor hoe die beskuldigde so lelik met die klaer praat? Nee, hulle het nie. Wél dat sy die lelike goed vir die beskuldigde gesê het. Haar kollega het dit ook nie gehoor nie, maar die klaer het haar wel gevra hoe ‘n mens die vieslikhede spel. En, sê die beskuldigde, dit was die klaer se eie skuld dat sy aangetrap is. Hy kon nie parkeerplek kry voor die hotel waarin hy oornag het nie, sodat hy darem sy tasse kon oplaai. En elke keer as hy op die laaisone wil stilhou, dan beduie die so-en-so se metermerrie (dit het hy haar tydens die onderbrekings teenoor die

joernaliste genoem) dat hy moet ry. So met die vierde verbyryslag besluit hy stilhou sal hy stilhou, en die volgende rondte doen hy dit toe. Terwyl hy sy tasse inpak, skryf sy. Toe hy wil ry, is sy nog nie klaar nie. Hy beduie toe vir haar om te gee pad, hy het genoeg tyd gemors. Sy wou nie. En dus edelagbare, sluit hy sy betoog af, dit was haar eie toedoen dat sy raakgery is. En dan was daar die keer wat iemand net te laat terug by sy kar gekom het. Die dame was besig om te skryf, en sy pleidooie en verduidelikings val op dowe ore. Toe sy klaar geskryf het, stop sy vies die kaartjie in die neulkous se hande. Met die wegtrek skree die bose oortreder vir haar: “En wat vra jy om in ‘n drieslaapkamerhuis te spook?!” Vergeet skoon die dame sit met al sy besonderhede. Hy het toe ook nie weggekom nie. ‘n Bloemfonteinse advokaat het darem ligter daarvan afgekom. Hy het skuins om ‘n draai oor ‘n stil stopstraat gery, en kaplaks voor ‘n verkeersman, wit handskoen in die lug, te staan gekom. “U het nie by die stopstraat stilgehou nie meneer” sê die spietkop beleef. Die advokaat besef hy het drooggemaak en is op heterdaad betrap. Sy enigste kans is om die Rooi taal te gooi. “Sorry sir, I realise I did’nt stop, but I paused”. Die spietkop vererg hom, stamp driftig met sy voet op die grond, en laat waai met sy weergawe van die Rooi taal: “What does stand there? Es Tee Ou Pee for stop, or Pee Y Dabbeljoe Es for for paws?” As ‘n mens met die gereg bots, is dit een ding, maar as jy met ‘n koerant moeilikheid kry, is dit gans ‘n ander. Soos die vooraanstaande sakeman wat in ‘n onderonsie buite ‘n sportklub betrokke geraak het, en toe ‘n klag van aanranding gaan lê het. Hy het sy beweerde aanrander se motor se registrasienommer afgeskryf. Toe die saak voorkom, gaan die klaer en dreig Die Volksblad se verslaggewers om nie oor die saak te berig nie. Dié besluit dis minder werk, maar die klaer gaan dreig ook die redakteur. Die gevolg: Daar sal verslag gedoen word. Daar sal skerp verslag gedoen word. So erf die uwe die saak, en na my mnr. Kobie Coetsee se dogter, Heleen. Die beskuldigde sê hy kan nie verstaan hoe hy van so ‘n ding aangekla kan word nie. Hy was besig om eksamen te skryf toe die moles gebeur het. Wat meer was, hy het by die klaer se seun eksamen geskryf, en boonop was dit nog Bewysreg ook. Uiteindelik besluit die beskuldigde se broer om te bieg. Dit was hy, wat terwyl boet eksamen geskryf het, sy kar geleen het. Hy wou saam met ‘n meisie by die

sportklub ‘n drankie gaan geniet. Maar daar het hy moeilikheid met ‘n beskonke ou gekry. Nou hoekom het hy nie vroeër met die sak patats voor die dag gekom nie? Nee, hy het ‘n vorige veroordeling omdat hy iemand met ‘n papierskêre doodgeslaan het. Nee, hy het nie die slagwerk met ‘n papierskedel gedoen nie. Die oorledene het ‘n papierskedel gehad, en hy het dit nie geweet nie. Hy wou nie die risiko van nog ‘n kriminele rekord hê nie. Maar boet is toe los. En dis toe dat die nuusredakteur deur Heleen se notas kyk, en voorsê oor die ou wat die redakteur so ‘n harde tyd gegee het. Daai middag lees die inleidende paragraaf: “‘n Bekende Bloemfonteinse sakeman het komieklike bewegings gemaak terwyl hy aangeklam met ‘n besoeker aan die stad op ‘n sypaadjie handgemeen geraak het, is vandag in die Bloemfonteinse landdroshof getuig” Of iets in dier voege. Die volgende oggend kry ek die spoor. Die sakeman het direk na die koerant op straat verskyn het, by die beheeraanklaer ingehardloop om te eis dat teen die koerant opgetree word. Maar daar kry hy koue water oor sy kop uitgegooi. Los die koerant uit, die koerant het tegnies niks verkeerd gedoen nie. Dan gaan ek Prokureur-generaal toe, bulder die ontevredene. Sal nie help nie, sê die beheeraanklaer. Maar dan gaan ek Minister toe! Nou nie dat die Beheerhofaanklaer nog koue water oor die arme man wou uitgooi nie, maar noem maar net vir die interessantheid die Minister se dogter het die berig geskryf.

Mev. Dokter
Oom Cheese het, soos ‘n mens sou verwag, eers by ‘n kaasfabriek gewerk. ‘n Fabriek in die Oos-Vrystaat wat lank nie meer bestaan nie, in ‘n dorpie waar die stasie nog net ‘n herinnering is aan die dae toe daar nog gereeld treine geloop...en in die dorpie aangedoen het. Toe jare later een aand in die dorpie oorgeslaap het, het die hotel nog bestaan. Danksy die Oog waar die manne wat die mure staande gehou het, die hotelgaste tot in die vroeë oggendure uit die slaap gehou het. Oom Cheese se vrou, tannie Stoney, het so ver ons weet nooit by ‘n steengroef gewerk nie. Nog minder had sy in haar jeug ‘n onbesonnenheid aangevang

waarvoor sy ‘n tyd lank moes gaan klippe kap. Haar nooiensvan was, volgens oorlewering, Steenkamp. Maar of tannie Stoney nog kan onthou, is amper moeilik om te dink. Van mens maar onthou was sy met oom Cheese getroud, en sedert oom Cheese jare gelede van die aardse smarte bevry is, stap tannie Stoney nou aan om die eeu vol te maak. Na die kaasfabriek gesluit het, het oom Cheese en tannie Stoney na ‘n groter buurdorp getrek, en oom Cheese het as makelaar gewerk om hom uit die kwaad te hou. Gepas Oos-Vrystaats was hul ruim huis vol Claerhouts en Ampenbergers – ‘n kleurvolle vrolikheid. Dis by oom Cheese en tannie Stoney wat ek van hierdie latere dorp se eertydse kleurryke karakter gehoor het. Ja, by hul beide, want so lank was hulle getroud dat hulle so ‘n storie in aflosse vertel het, elkeen het mooi geweet watter deel van watter storie het die beste by elkeen se vertelstyl gepas, ‘n kuns wat ‘n mens meer kere kry as mens mooi oplet. Nou nie daai soort waar die een die storie probeer vertel, en die ander een hom – ja hom – beterweterig probeer reghelp nie. Omdat die uwe ‘n paar minder aangename ervarings met distriksgeneeshere gehad het, het hul storie vermoedelik gevolg op iets wat ek so in die geselskap moes genoem het. Ja, hul dorp het ook ‘n baie kleurvolle distriksgeneesheer gehad. By geleentheid voel die tuinman olik, vertel hulle, en hulle stuur hom dokter toe. Nie lank nie, is die tuinman terug, grootoog. “Daai baas dogter het my sommer deur die baadjie se mou ge-inject,” rapporteer hy terug. Oom Cheese en tannie Stoney was nie verbaas nie. By geleentheid ry hulle met kliënte om na ‘n plaas te gaan kyk. Maar oom Cheese is nie heeltemal seker waar die plaas is nie, en bedink nog waar om te gaan pad verneem, toe is die “dogter” in ‘n stofwolk by hulle verby. Net ‘n entjie verder, onder ‘n boom langs die pad, is ‘n “kliniek” en daar sal hulle stellig met die beduieslag geholpe raak. Nog half in die stofwolk hou hulle by die “kliniek” stil, en is verstom oor die toneel wat voor hulle afspeel. Daar staan ‘n ry ma’s met hul kleingoed snotneus op die arm. Die dokter draf die ry af en so vinnig soos hy beweeg spuit hy. So vinnig, teen die tyd dat ‘n kleintjie agterkom hy is genaald en ‘n snotpsalm insit, is daar al ‘n rits na hom ingespuit. Of die naald sommer deur die doek is, en of daar ooit doeke was, het ek nou volgens my herinneringe nie verneem nie. Agter die dokter kom sy “apteker” aan, ‘n swart man wat hy in diens geneem het om pille uit te deel. Agter in die dokter se kattebak was ‘n klomp houers met pille. Hieruit gryp die “apteker” hande vol en deel uit. Nou bygesê, ek het ook nie verneem dat die dokter ooit ‘n pasiënt verloor het nie. Behalwe miskien ‘n paar wie se moed hulle begeef en die hasepad gekies het voor hulle ge-inject geraak kon word.

En op ‘n dag, daar is die dokter se vrou van baie jare, dood. Maar die grond anderkant die sipresse het nog molshoop gestaan, toe haak die dokter met die jarelange klinieksuster af. En op slag is sy nie meer “suster” nie, maar mev. Dokter. Maar haar geluk was nie vir lank bestem nie, toe lê die ou dok ook sy kop vir oulaas neer. “Van toe af was sy mev. wyle Dokter,” sluit tannie Stoney haar en oom Cheese se storie af. Soos gemeld, my eie ervarings van distriksgeneeshere was omtrent dieselfde as my ervaring van weermagdokters toe ek nog diensplig gedoen het. En die meeste van ons wat nog voete gestamp het, sal weet dis rof. In die dae voor daar dienspligdokters was. En soos die geluk dit wou hê, die laaste keer in die weermag wat ek gewaag het om siek te word, was die weermagdokter nog boonop ook die distriksgeneesheer. ‘n Dubbele verskrikking dus. En burgemeester ook, maar darem in die dae voor burgemeesters as ‘n reël ook ‘n slegte smaak in ‘n man se mond gelaat het. Maar nou moet ek dadelik byvoeg, ek het goeie distriksgeneeshere geken, al was hulle nie my dokter nie. So een was ‘n skoolvriend se pa, dokter Bester. Toe dié pa, soos hulle destyds gesê het, Medisyne gestudeer het, was hulle drie Besters in die klas. Om hulle van mekaar te onderskei, het hulle elkeen ‘n bynaam gehad. Hierdie een se bynaam was “die Goeie Bester. Heel per toeval het ek nog een van die Besters ontmoet, en so van die byname gehoor. By geleentheid vertel die Goeie Bester van sy dae toe hy nog by Wellington distriksgeneesheer was. Een nag laat, of oggend vroeg, klop die polisie hom op. By hulle het hulle ‘n man wat effe na drank ruik. Die polisie meen hy het dalk dronkbestuur, maar hulle is nie seker nie. Hulle, die twee polisiemanne, het die nag tussen die plase patrollie gery, en toe stilgehou om bietjie Boeretroos uit ‘n warm fles te drink. En terwyl hulle so blaasblaas oor die bekers aan die koffietjie sluk, sien hulle hoe iemand heen en weer oor ‘n smal plaasbruggie ry. Met die derde oorryslag is die man toe in die reling vas. Die Goeie Bester trek toe die bloed, verseël dit en stuur op die trein Kaap toe om getoets te word. Die volgende dag bel die eienaar van die bloedmonster. Is daar dalk al ‘n uitslag? Nee, sê die Goeie Bester, maar hy verwag nou enige oomblik die oproep. En, sê hy, hy het net die gehoorstuk neergesit, toe lui die telefoon weer. Dié keer is dit toe die vampiere van die Kaap.

“Daai man wie se bloed jy gisteraand gestuur het. Leef hy nog?” Die Goeie Bester vertel hy het dit al tevore gekry dat iemand se alkoholvlak meer as twee keer bo die dodelike was, maar nog nie dat die “oorledene” die volgende oggend al kon gebel het om na die uitslag te verneem nie, al heel nugter. By geleentheid is daar dienspligtiges opgeroep om hul diensplig in die polisie te doen, en dan later dertig dae per jaar hul “kampe” in die polisie te doen. So ‘n knaap is met sy “kamp” besig en terwyl dit stil in die aanklagkantoor is, trek hy sy boeke nader en studeer. Hard. “Wat swot jy?” wil die verveelde sersant weet. “Medies” sê die student. “Hoeveelste jaar?” wil die sersant belangstellend weet. “Vierde jaar?” “O,” sê die sersant, “dan kan jy al as distriksgeneesheer praktiseer.” “En,” sê Boet wat dié storie vertel, “toe moet hulle die knaap van die sersant kom afhaal. Want die jongeling se pa is distriksgeneesheer...en burgemeester.” Ja, dink ek, ek kan eintlik nie die sersant baie verkwalik nie, want ek het al as hofverslaggewer ervaar hoe eers ‘n lasbrief uitgereik is aan ‘n obsent distriksgeneesheer om in ‘n dronkbestuursaak te kom getuig, en toe hy steeds nie opdaag nie, gearresteer en hof toe gebring is. “Ja,” sê Boet wat self in die polisie was, “ek het self een nag ‘n ou wat bietjie gedrink het en ‘n ongeluk gemaak het, jammer gekry. Ons moes die distriksgeneesheer by sy huis gaan opklop. Vreeslik gesuip (die dokter), en hy het die naald ‘n paar keer heel by die slagoffer se arm verbygesteek. Die vermeende dronkbestuurder was al erg grootoog en baie wild teen die tyd dat die dokter hom toe raakgekorrel kry.” Maar dink ek, daai moeilikheid, so weet ek, sou hulle nooit met Die Goeie Bester gehad het nie. Nooit. Ook hy rus nou al anderkant die sipresse. En hy het ook nie ‘n mev. wyle dokter nagelaat nie.

Groot drome
Op ‘n spierwit gerypte wintersoggend van 1964 staan die paartjie met hul bondeltjie vreugde voor die opstal se agterdeur. Die aga blaas sy warm asem na buite toe die boer die agterdeur oopmaak. Aan ou Jim buite se gesigsuitdrukking kan oom Anneries sien die groot oomblik het aangebreek.

Jare lank gooi Jim soos ‘n goeie bul net verskallers. Maar Jim was vasbeslote – hy sou aanhou probeer tot hy ‘n bulletjie by sy stroois het. En soos die jare aangestap het, het sy drome vir dié droomseun al groter geword. Maar die dogters het net meer en meer geword, en niemand weet of Jim naderhand nog gebodder het om onder hulle te tel nie. Vandag is daai droomseun egter in die bondeltjie komberse toegedraai en Jim hou hom styf vas. Oom Anneries weet Jim het gekom om sy ego gestreel te kry. Dus speel oom Anneries saam. “Is dit ‘n seun, ou Jim?” vra hy onnodig. Oom Anneries sien die trots nog verder blom. Ou Sahrah wat skuins agter Jim staan, se gesig is egter eerder die ene verligting. “Es ramakatse,” kry Jim dit skaars uit. “Nou wat is sy naam?” “Sy naam ês Dogter.” Oom Anneries voel hoe hy leegloop van alle logika. So ‘n gespook vir ‘n seun na ‘n hele span dogters, en dan noem hy hom Dogter? Oom Anneries kry sy asem terug: “Nou hoekom Dogter?” vra hy verbaas. “Want hy gaan word die dogter.” Oom Anneries voel hoe die verligting oor hom terugspoel. Sekondes gelede het hy vas geglo Jim se varkies het losgekom, of hy wat oom Anneries is, het begin hallusineer. “Nee, Jim, nie ‘dogter’ nie, dis dokter.” “Ja, hy gaan die dogter word.” “Maar dit is vreeslik duur om vir dokter te leer.” Ou Jim lag. “Aikôna, met al die meisiekinders se lobôla wat ekke gaan kry, daais peanuts.” Oom Anneries sug. Lobôla bestaan omtrent net in teorie. In die praktyk beland die spulletjie sommer half kleintyd in die ander tyd, en van werklike huwelike is daar selde sprake. Van lobôla nog minder. Evangelis Papegaai de Bees probeer sy bes, maar maak nie veel hond-haaraf nie. Dit neem oom Anneries en tant Marié ‘n paar maande om die fonetiek te laat reg inslaan. Toe is Dokter se naam Dokter, en hy gaan ‘n dokter word. Oom Anneries het nie baie moed gehad dat hy die fonetiek sou regkry nie.Sy plaas se naam is Merino, maar van hy kan onthou noem die werkers, en die bure se werkers, en die skaapdiewe in die lokasie die plaas Merina. Hy het jare lank die stuipe gekry, maar uiteindelik moes hy maar vrede maak.

Maar vir Dogter wat ‘n dogter gaan word – daarvoor het hy darem regtig nie kans gesien nie. Die kommer oor studiekostes het geblyk vals te wees. Dit was sommer kleintyd duidelik vir almal behalwe Jim dat sy trots skaars die vermoë vir die laerskool sou hê. So was dit ook. Op 16 het die prinsipaal van die plaasskool vir Dokter deurgesit op voorwaarde hy gaan nie sy pa se geld by die hoërskool op die dorp verder mors nie. Dokter het ‘n plaaswerker geword, maar g’n boer was welgesteld genoeg om Dokter te bekostig nie. Is hy op ‘n trekker is ‘n mens byna verseker ‘n nuwe trekker moet gekoop word en dit waarin hy vasgery het moet heelgemaak word. En omdat hy Dokter is, is hy ook maar half teë op iets anders wees as trekkerdrywer. “Dokter het sy tyd op skool gemors, maar iewers het sy verbeelding op loop gesit om rampe uit te dink,” kla oom Anneries een oggend oor sy krummelpap. Die vorige dag het Dokter die groentetuin probeer natlei, en so drooggemaak, of eerder, natgemaak, die hele leidam was leeg en die water onder in die vallei af, terwyl nie eens die helfte van die beddings water gekry het nie. Oom Anneries het lankal gesê hy skiet vir Dokter as hy hom naby die vee en die groen lusern kry. Gelukkig het Dokter hom geglo. Maar met al sy dinge, het Dokter darem ‘n hart van goud. Toe kom daar ‘n soort uitkomste. Miems, oom Anneries en tant Marié se oudste dogter, en dié se prokureurman, Stefan, woon in ‘n stad ‘n paar honderd kilometer weg. Hul erf is groot en kan doen met ‘n inwonende tuinman. “Kan pa dalk vir Dokter afstaan?” So is Dokter stad toe. Miems is huisvrou en kan redelik ‘n ogie oor Dokter en haar spogtuin hou. Soms is haar toesig egter net ‘n paar sekondes te lank nie waar dit moet wees nie, en rig Dokter die een of ander katastrofe aan. Hoewel Dokter belet is om naby die swembad te kom, het hy tog gesien hoe chloor van tyd tot tyd ingegooi word. Na Dokter so die vyfde keer ‘n klomp kunsmis in die swembad gegooi het, het Miems se man met die polisie gekonkel, en was Dokter ‘n nag lank in “eensame opsluiting” by die polisiestasie. Dit het darem gehelp. Maar Dokter was talentvol genoeg om genoeg ander rampe te bedink, of ten minste ten uitvoer te bring. Boonop, het dit geblyk, waar dit in die boonste verdieping tekort geskied het, is laer af aan die anatomie deeglik opgemaak. Jim het mildelik gesaai. Miems se woedende man moes gereeld huishulpe met kopdoeke en bondeltjies in die arms te woord staan. “Julle weet die man is nie toerekeningsvatbaar nie, maar julle gaan maak kleintjies met hom en dan wil julle hom verantwoordelik hou!”

Toe kom daar ook uitkomste. Dokter se blindederm maak moeilikheid, en toe hy ingaan teater toe praat Miems mooi met die dokter. “Toe hulle jou blindederm uithaal, kom daar ‘n muskiet en byt jou daar,” verduidelik Stefan die bykomende wond aan Dokter. Omdat Miems so baie in die tuin doenig is, het sy haar telefoon aan ‘n lang verlengkabel op die stoep uitgedra. Maar soms gebeur dit dan dat sy in die kombuis of agter die huis is as die oproepe inkom. Dokter, heel oorlams genoeg, antwoord dan: “Dokter hier.” Dan hoor hy net ‘n geprewel van “verkeerde nommer” en die een aan die ander kant plak die telefoon neer. Maar dié ding het tog sy kwota verwarring opgelewer. Nie lank nie of Stefan word gereeld as “doktor” aangespreek, en hoewel hy mense reghelp so ver hy gaan, kom daar maar gedurigdeur nuwes by wat hom “doktor” noem. Uiteindelik word die herkoms van dié vergissing opgespoor, en Miems hou die telefoon van toe af liefs binnenshuis. Dokter is later terug plaas toe. In sy kispak na ‘n vragmotor hom vlak voor Stefan en Miems se huis getrap het. Vandag staan daar ‘n grafsteen oor ‘n hopie van ‘n plaaswerker se droom om eendag ‘n geneesheer as seun te hê: Dr. Dokter.

Die dag toe Kersvader sy baard aan die brand steek
Alles was gereed vir Kersfees. Hier vroeg in die nuwe jaar sou Pa en Ma vir die sesjarige Veronica die slegte nuus breek dat daar geen Kersvader is nie, want Veronica gaan aanstaande jaar skool toe en die ouers wil nie hê die maatjies moet haar straks spot nie. Maar hierdie Kersfees is nog vir oulaas 'n regte een op die plaas met Kersboom en Kersvader. Ma, Veronica en die driejarige tweelingsussies, Bianca en Madré, werk al weke lank om alles in orde te kry vir Kersaand. Selfs 'n ete soos min word vir Kersvader aangelê, want, verduidelik Veronica, dis ver van die Noordpool af en Kersvader sal al baie moeg en honger wees. Sy het immers al met vorige Kersaande gesien hoe Kersvader aan die kossies kan weglê. Want oom Koos wat al 'n paar jaar vir Kersvader instaan, het nie daai bierpens gekry van min eet nie. Trouens, Veronica is al so geleerd oor Kersvader dat sy al 'n ensiklopedie sou kon skryf as sy al kon skryf. Sy ken al Kersvader se takbokke se name op ‘n streep, maar by Blitzen trek sy die streep. “Ek noem hom sommer Donderweer want ‘n mens mag nie vloek nie.” “En pa, hoekom is Rudolf se neus rooi? Het hy nie sy draai mooi gekry toe Kersvader esse gegooi het nie?”

Met al haar navorsing oor Kersvader het die lyne ook met St. Nicholas en Swarte Piet gekruis, en die twee heel inmekaar geklits. Die volgende jaar wou sy knaend huilerig by ma weet of sy, Ma, dink sy, Veronica, was soet genoeg, want so blyk dit uit haar navorsing, St. Nicholas bring net vir die soet kinders geskenke. Vir die stouterds neem hy ‘n lat saam waarmee hy die stouterds sy boude vreeslik seer piets. Ma verseker haar Kersvader meen sy is soet. Hy het self so vir ma geskryf. Toe wonder Veronica nog net oor Bianca wat soms so onmoontlik kan wees. Oor oom Gert-hulle se stoute seun Japie het sy nie twyfel nie. Siepsop is Japie se voorland, en as Japie nie oppas nie, doen Kersvader sommer met sy terugreis Noordpool toe wéér by die huis aan. “Ma, is Kersvader getroud?” wil Bianca weet. “Natuurlik,” snip die alwetende Veronica. “Sy vrou se naam is Mary Christmas.” Maar die oggend van die 24ste begin al die planne skeeftrek. Dit begin reën. Eers is niemand bekommerd nie, trouens, almal is baie bly, want dit is droog. Later stortreën dit, en die SMS'e begin vlieg, want die telefoonlyne is af en die kinders kan alles hoor wat oor die tweerigtingradio gesê word. Dis ‘n groot organisasie wat vergelyk kan word met die boere se operasionele vermoëns as hulle vir ‘n veldbrand of plaasaanval uitgeroep word. Eers word die planne net aangepas. Pa en Ma diep 'n ou Kersvaderpak uit die kas op, want oom Koos kan nie dié weer op 'n trekker met sy Kerspak aandurf nie. Ma besluit die baard is te gekoek, en spuit haarset aan en kam dit mooi uit. Die Kersvaderuitrusting word tussen die oorpakke in die melkstal gehang, en van toe af moet die glimlaggende melkers buite reikafstand van die spantou bly, want Pa is iesegrimmig. Toe kom die regte slegte nuus. Van die reënery het oom Koos nou 'n hoes en die tante sê aikôna, g'n niks trekker-ryery in die reën nie. Met die spruite wat al vol loop, is dït al manier. Pa moet vir Kersvader instaan. Synde Pa nie 'n pens soos oom Koos het nie, word 'n kussing ook melkstal toe gesmokkel. Kort voor Kersvader met sy slee, aldus Veronica, op die huis se dak sou land, word die afgespreekte SMS ontvang dat daar 'n jakkals by die skape is, en Pa is vort. Eintlik sit hy af na waar die Kersvaderpak tussen die melkers se oorpakke hang. Teen daardie tyd het Veronica lankal verklaar dat die weerstoestande van so 'n aard is dat Kersvader nie met die koets en Swarte Piet die geskenkaflewerings sou doen nie.

Pa is skaars in die Kerspak, toe gaan die krag uit. Eskom is weer die ene Eisjkom. In die huis, sien hy, word kerse aangesteek. Die Lister loop al jare nie, en in daai reën gaan dit ook nie help om hom aan die loop te probeer kry nie. Pa durf die reën aan, en val behoorlik met die sak geskenke in die huis in. Die geskenkuitdelery by kerslig verloop goed. Veronica verduidelik van Pa wat moes gaan jakkalsjag. “Dis ‘n tragedie,” vertel sy grootoog vir Kersvader, want pa is so ‘n yster met die kalkoensnyery. Nou sal Kersvader dit self moet doen. “Kan Kersvader met ‘n mes werk?” Toe word aangesit. En dis waar dinge weer verkeerd loop. By geleentheid moet Kersvader 'n bietjie oorleun om die kalkoen te sny, toe die baard te na aan 'n kers kom. Ma se haarsproei laat dit soos petrol brand. Kersvader ken toe 'n paar woorde wat die meisietjies dog net Pa ken as hy met die trekker-enjin sukkel. Veronica onthou dit ook nog vaagweg uit die Listerdae. Pa laat waai na buite, waar hy die brandende baard onder 'n lekkende geut druk, en toe verkas hy na die melkstal toe. 'n Rukkie later is pa terug van sy “jakkalsjag” af. By die huis tref hy sy dogters ontroosbaar aan, want, verduidelik Veronica, hulle het nou dié Kersfees vir seker honderde ander kinders, by wie Kersvader nog nie was nie, verongeluk. “En al is hy nog in staat om self verder te gaan, is hy nou seker so kwaad die lat gaan vreeslik praat, al was die kinders nie eens so stout soos Japie en Bianca nie.” Ma is dik van die lag, maar steek dit weg. Pa kry 'n blink gedagte: "Nee wat, teen dié tyd het Kersvader lankal vir Swarte Piet gestuur. Hy gooi mos sommer die presente in die skoorstene af. " Ingedagte stap pa die gang af. Tog jammer onskuldige pret, ook kinderpret, moet so in die slag bly. Tot ‘n paar jaar gelede het ‘n paar onnutsige boere nog middernag Oujaarsaand ander se hekke met draad gaan vasdraai. Dis nou die hekke van boere wat gaan dans het in plaas van Middernagdiens toe is. ‘n Boer wat met Bacchus in sy lyf op die plaas aankom, sukkel vreeslik met so ‘n toegedraaide hek. Soms word ‘n paar klappers gestel om die sukkelende boer te help om bietjie nugterheid te herwin. Nou maak plaasaanvalle dit net te gevaarlik. Selfs Kersfees is nie meer wat dit was nie.

Onderonsie met die luiperd
In my familie lyk my prognoses om ou bene te kou, nie te waffers nie.

Twee van my oupagrootjies het wel so om en by 91 jaar oud geword, my een oupa sestig en die ander 58. En my pa het ons op 51 ontval. Volgens die trajek sou ek ook nie nou hier kon sit en stories uitryg nie, maar ongelukkig vir diegene wat die stories pes, het die trajek nou skynbaar weer ‘n opwaartse kurwe loop vat. Maar toe verneem ek een van my oupagrootjies se pa wat ‘n hele 95 jaar oud geword het. Maar amper is hy jonk-jonk bokveld toe, hoewel hy self nie so gereken het nie. Die oor-oupagrootjie van my het ‘n welige bos baard gehad. Maar die baard het nie heeltemal verdoesel dat hy ‘n riempie om sy nek gedra het nie. Aan die riempie het ‘n luiperdnael gehang. En dis oor dié luiperdnael wat die storie handel. As jong man op die plaas skraap hy en sy honde by geleentheid ‘n luiperd in die veld. Hy het nie daarop gereken om ‘n luiperd raak te loop nie, en die roer het by die huis bly lê. Uiteindelik kry hulle die luiperd op ‘n lysie teen die berg vasgekeer. Die luiperd kan nêrens heen nie, en die honde kan ook nie by die luiperd uitkom nie. Die oupa klim toe teen die krans op, kry die luiperd aan die stert beet, en pluk hom tussen die honde in. Maar die luiperd verset hom vreeslik, en die een hond na die ander delf die onderspit. Oupa was vreeslik erg oor sy honde, en besluit om die sakie self te beredder. Hy laat los daar teen die krans en bespring die luiperd. Hy kry toe die luiperd met sy mes doodgesteek. So al asof daar nie detail aan die geveg was nie. Met die storie het oupa sy agterkleinkinders geweldig geïmponeer. “Maar dit was darem baie dapper om so ‘n gevaarlike ding te doen”. Maar oupa was self nie te beïndruk nie. “Dis nog niks” het hy dan vertel. “Ek het my die slag met ‘n ystervark deeglik vasgeloop”. Vir my klink dit, soos vir my voorgeslagte ook, half ongelooflik dat iemand ‘n luiperd met ‘n mes kan kafdraf, maar hom dan teen ‘n stekelrige swyn kan vasloop. Soos die vriend van my wie se vriend groot rugby daar by Saldanha se militêre akademie gespeel het. ‘n Vriend van hom kry toe sleg seer op die rugbyveld. Dis toe dat die soldaat besluit rugby is ‘n gans ‘n te gevaarlike spel. Van nou af sou dit op slag net rolbal wees. Maar die eerste dag op die rolbalbaan laat val hy die swaar rolbal op sy voet, en breek ‘n hele lot beentjies. Kry toe baie seerder as wat hy ooit op die rugbyveld gekry het.

Nee, vertel Oupa, hy jaag toe die slag die ystervark te voet. Mooi op spoed besluit die ystervark hy steek net daar waar hy toe is, vas, en rig sy penne gelyk agteruit. Oupa se remskoene was nie flink genoeg nie, en hy hardloop in daai penne in. Sy bene lyk toe kompleet soos twee omgedopte ystervarke, seg hy. Nie dat sy nasate genoeg gehad het van groot katte nie. Later-tye het ‘n Delportneef van my Oupa ‘n mak leeu aangehou, en die een het oral met hom saamgery. En glo my, daar op Kroonstad hoef hy sy motor nooit te gesluit het nie, nie eens met sy beursie oop en bloot op die voorste sitplek nie.

‘n Boerbok neem kerk op horings
“Die twee hanskallers het geleer om die hek oop te maak, en ek het hulle uit die tuin probeer jaag, maar sal maar môre as dit lig is verder probeer.” Oudste is die vakansie op ‘n wildsplaas, en moet nou die fort hou terwyl die bestuurder en sy gesin ‘n rukkie by die Groot Dam gaan uitspan het. Wil nog vra van wanneer af hanskallers nou so ‘n handvol is dat ‘n mens nie sommer gou-gou by ‘n hek uitgejaag kry nie. Maar ..dis g’n gewone kallers nie. Dis buffelkallers, en die hans goed is boonop oorlams ook. Hans diere kan geniepsig wees. Eendag vertel ‘n oom wat ‘n stalletjie oorkant my by die boeremark gehad het ‘n staaltjie van sy geboorteplek, Brandvlei. Nou vir diegene wat so oningelig is om nie te weet waar Brandvlei is nie, dis naby Verneukpan. As dit nog nie ‘n stofduiwel laat dwarrel nie, dis aan die Sakrivier. Eintlik is “Sakrivier” vreeslik misleidend, daai rivier sak niks. Omdat hy so min loop, het die loop opdraande begin loop toe die aardkors gelig het. As die rivier die slag wél opkom (hy kan immers nie afkom nie), dan is die hele wêreld onder water. Op ‘n dag skenk ‘n lidmaat ‘n bokram en twee ooie aan die kerk op Brandvlei. Die kerkraad is half opgeskep met dié skenking, en besluit naderhand die kerkerf is groot genoeg. Die bokke is hans grootgemaak en die skenkers sal erg eksepsie neem as die oorlamse goed op die kole beland. Hulle moet maar daar loop. Dan is onkruid en ander goed wat bokke vreet darem nie ‘n probleem nie. Nou moet ‘n mens darem bysê, die koster het tydens die dienste by ‘n oop deur gesit, sodat hy presies om half tien die trappe kon uit om die klok te loop lui. Daar waar hy sit, is hy in sig van ‘n groot deel van die gemeente, en so was die gemeente bewus van die koster se gewoonte om te dut en in die proses lekker vis te vang.

Die een dag, vertel die oom, sien hy weer hoe die koster se kop knik-knik, maar hy sien verder, verby die koster tot by die oop deur. Die oorlamse bokram het in die deur kom staan, en daar sien hy hoe die koster kop knik. Knik die koster, knik die bok. So gaan dit aan. Die oom sê hy ken ‘n bok, en hy het geweet hier kom ‘n ding. Die koster knik nog ‘n slag, en die bok knik en storm. Stamp die koster skoon poer van sy stoel af. Dominees wat ook die ding sien kon het, had moeite om sy lag in te hou so met die bok en die koster se kop-kopspelery. Hy het gewoon nie kans gesien om die sports vooraf nek om te draai nie, en heimlik was hy dalk bly dat die bok die koster se visvangery so onder die preek genees het.

Assuransie
Met die misdaad en so aan wat die land teister het mens dit nie aldag maklik nie. Al is ons nou baie bewus van die misdaad, was misdaad al lankal met ons, en het veral sommige mense al lankal noustrop getrek weens die misdaad wat hul sake-ondernemings erg laat ly het. Toe Oom Hennie dié storie vir my vertel het, het ek presies geweet waarvan hy praat. Vroeër het Oom Doep saam met my gewerk. ‘n Man wat op sy oudag vir ‘n appel en ‘n ei as klerk vir die staat moes gaan werk, nadat diewe sy sakebelange letterlik weggedra het. Oom Doep het naamlik ‘n plaaswinkel gehad. Nie lank nie, word die een venster uitgeslaan, en die inhoud weggedra. Oom Doep het met raap en skraap weer begin, en dié keer was daar stewige diefwering voor die vensters wat een van die omgewing se boerseuns vir hom aanmekaar gesweis het. Maar die diewe laat hulle nie so maklik koudsit nie. Die volgende stamp hulle eenvoudig die deur uit, en dra weer alles weg. Weer moet Oom Doep voor begin. Dié keer met ‘n stewige staaldeur aan die winkel. Maar ook dié hou net lank genoeg vir Oom Doep om weer behoorlik voorraad bymekaar toe maak. Toe gaan die diewe sommer deur die muur. So was dit ook met die Gebroeders Steyn. Hul dorpie op die Vrystaatse oosgrens kan seker eintlik net met ‘n bietjie verbeelding ‘n dorp genoem word. Net een straatblok, met ‘n kerk, poskantoor, die stasie, so drie spoorwegbusdiens, en die Steyns se winkel. Die Gebroeders Steyn was eintlik die voorloper van later landboukoöperasies se winkels. Hier kon die boere omtrent alles koop. Van komberse tot saad, van ploeë tot stange, melkemmers, stewels, oorpakke, grawe en gereedskap. Jaap Steyn die oudste broer, was ‘n netjiese werker. Altyd gesorg dat die boeke agtermekaar is, die voorraad deeglik bygehou word, en dat daar geld in die bank

was. Jan Steyn, aan die ander kant, was meer die mens-mens. Hy het weer die vermoë gehad om doodseker te maak die koper wat sy voete in die winkel sit, koop heelwat meer as wat hy eintlik van plan was om aan te skaf. Ja, hy kon enigeen ‘n gat in die kop praat. Maar nou, dis nie net die boere wat dit wat in die winkel was, nuttig kon gebruik nie. Ook die mense anderkant die grens, het baie van die dinge nodig gehad. En vir koop was hulle nie baie lus nie. Dus is daar kort-kort ingebreek. Die Gebroeders Steyn het ook eers probeer om die winkel diefproef te kry. Maar die diewe was altyd een stappie voor. Is alles grondlangs so stewig, dat ‘n dief nie kan deurkom nie, dan kom hulle deur die dak in, en neem sommer die sinkplate op die koop, of liewer diefstal, saam. Einde te laaste kan dit nie ander nie. Hulle moes ‘n nagwag aanskaf. ‘n Betroubare een, wat die knopkierie goed genoeg kon inlê om voornemende kwaaddoeners te verwilder. En so het ou Jim deel van die Gebroeders Steyn se lewe geword. Jim het sy kant gebring, en die diefstalle is hokgeslaan. So goed dat die Gebroeders Steyn begin wonder het of die vreeslike assuransiepremies werklik nodig was. Maar, gedagtig daaraan dat die winkel ook kragparaffien, terpentyn en allerlei vloeibare brandbare stowwe verkoop het, en mense tog so roekeloos kon wees soos hulle met hul rookgoedjies maak, het hulle wyslik besluit om die assuransie te behou. Op ‘n dag was dit Jan se beurt om die kinders vir die naweek by die kosskool in Bethlehem te gaan haal. Omdat die assuransie amper verstryk, gee Jaap vir hom die papiere saam om ‘n draai by die agent te gaan maak. Em so is Jan met die papiere weg Bethlehem toe. Lank voordat hy in die dorp kom, het Jan al vergeet wat hy so vroeg in die dorp moes gaan maak. Die kinders kan eers heelwat later gekry word. Die mensmens wat hy is, gaan hy toe maar hotel toe, waar hy van sy vriende om ‘n heerlike koel toonbank raakloop. Toe vergeet hy nog meer van die assuransie. En so het die assuransie heeltemal vergete gebly. ‘n Maand of wat later, draai iemand die paraffien-kraantjie van die drom nie mooi toe nie. Die klein stroompie begin die aand na sluitingstyd te loop, en kort voor lank begin dit in die paadjie na die deur toe afsypel. Die paadjie was immers darem half uitgetrap. Later die aand, met Jim baie pligsgetrou op sy pos, merk hy ‘n nattigheid onder die staaldeur uitkom. Hy druk sy vinger op die klammigheid, en ruik dan aan die nat vinger. Maar hy is verkoue. In die donkerte kan hy ook nie mooi sien nie, en hy trek ‘n vuurhoutjie om beter te kan sien.

Eintlik was dit ‘n fout. Die paraffien aan sy vinger vat vlam, en vervaard gooi hy die vuurhoutjie neer. Ongelukkig op die klammigheid onder die deur. Binne ‘n oomblik is die vlamtonge onderdeur die staaldeur, en af met die paadjie af na die drom. Jim besluit dis nou ‘n gawe tyd om te makeer. Vinnig te makeer, en hy lê die rieme neer. Want die volgende oombliklik vat die hele spul daar binne vlam, en met die kunsmis wat vuur kry, is dit ‘n groot ontploffing. Die staaldeur word behoorlik gelanseer. Gelukkig vir Jim is sy een been effe korter as die ander, en het hy nie mooi reguit gehol nie. Die deur mis hom rakelings. ‘n Uur of so later staan Jaap en Jan Steyn op ‘n koppie en staar verwese na die smeulende as wat eens die trotse Gebroeders Steyn was. “Gelukkig het ons die assuransie laat hernu” sê Jaap na ‘n ruk. Jan skrik hom yskoud. Daai vorms en papiere moet nog in sy bakkie se paneelkissie lê! Jaap sien hoe Jan skrik. “Die blikskater”, dink hy. “Gelukkig ken ek hom en het ek die Vrydagaand in sy paneelkassie gaan kyk”. Daai Maandagoggend na Jan se kroegkuiery het Jaap die assuransieagent gaan spreek toe hy die kinders terug skool toe geneem het. “Wonder wanneer sal ek Jan reghelp. Maar eers moet hy ‘n les geleer word” dink Jaap.

Feloftegees, ekskuus, Geloftefees sonder weerga
Pa Jan is lankal nie meer daar om gevra te kan word dat hy op sy Namakwalandse manier opklaar watter storie by watter storie bymekaar hoort nie. Toe Pa Jan ons ontval het was die uwe maar nog baie jonk en dan luister ‘n man mos nie altyd met die nodige aandag nie. Om seker te maak niks word weggelaat nie, word alles maar bymekaar gehark en in een storie ingeklits. Toe dominees Hofmeyr sy emeritaat neem en met mev. Dominees see toe versit, was dit eintlik vanselfsprekend dat oom Skjeuns Terblans die nuwe voorsitter van die Buskruitbultgeloftefeeskomitee sou word. Oom Skjeuns is immers die baas van die plaas Skuinskraal waar die Geloftefees elke jaar gehou word. Alles gaan goed met die reëlings, maar om ‘n gerekende spreker te kry was nou nie al te maklik nie. Maar oom Dwerg Botha se vrou se suster is met ‘n proffie getroud, en ‘n proffie is ‘n proffie en hy moet deug.

So gebeur dit dat ‘n telegram gestuur word, en ‘n telegram terugkom, waarin prof. Josias de V. Koekemoer laat weet hy neem die uitnodiging met nederigheid aan, en sal die komitee hom oor die reis- en hotelreëlings inlig? Die komitee is nogal uit die veld geslaan. Almal het aanvaar die prof en sy eggenote sal op eie stoom daar kom, en by die familie tuisgaan. Maar niemand weet wat die protokol eintlik is nie, want ou dominees het altoos die reëlings self getref. Die uiteinde is die proffie kom met die trein, en dat plek vir hom in Buskruitbult se enigste hotel, die Grand Hotel, bespreek is. “Verbeel jou, watter gerespekteerde mens loop bly nou in daai hotel? Dit raas tot laataand by die buiteverbruik, en daarna uit die kroeg... so het ek verneem. Ta’ Sarie se losieshuis is ‘n veel fatsoenliker plek.” Toe die trein stoom-stoom Buskruitbult se stasie inkom, wag die hele Geloftefeeskomitee op die perron. Twee passasiers klim af – oom Piet de Necker wat by familie in die stad gaan kuier het, en die prof. Die prof word ontvang soos ‘n president op staatsbesoek in die buiteland. Oom Piet, ‘n regte platjie en baie gewild, word ook gul gegroet maar dis al of die prof so veel as moontlik mense en afstand tussen hom en oom Piet wil inkry, tot oom Piet saam met tant Hettie daar weg is. Elkeen stap met ‘n stuk bagasie in die hand, oor die straat na die Grand Hotel. Hier word gou ‘n teetjie saam met die prof in die lounge genuttig. “Is julle nie bang om aan oom Piet se hand te vat nie?” wil die prof weet. “Nou hoekom dan?” vra dr. Cornelissen. “Ek weet min van siektes, maar dit klink my erg as iemand nou net uit die sanatorium kom waar hy vir aansteeklike cactoblastis behandel is.” Op slag weet almal oom Piet wou seker die kompartement vir homself gehad het vir ‘n privaatheid, en dat hy toe die arme prof die vreeslike klomp bol wol in die kop in loop praat het. Toe word die prof ‘n rustige nag toegewens, en die Geloftefeeskomitee verkas want daar is nou baie werk om gedoen te word. Die portier besorg die prof en sy bagasie by sy kamer op die boonste verdieping en in die verste hoek van die kroeg af. Bedagsame mense, dié Geloftefeeskomitee. Die volgende dag, toe die Gelofftefeeskomitee die prof by die hotel gaan groet en na die saligheid van sy nagrus verneem, moes hulle tot hul ontsteltenis verneem die prof het dou voor dag uitgeboek, en is sommer so met die melktrein vort. Die portier brom iets van dringende familiesake, maar dit maak g’n niks sin nie, want as ‘n man dringend in die stad wou kom, wag ‘n man vir die Trans Karoo wat tienuur deur Buskruitbult ry, en la-a-a-a-nk voor die melktrein in die stad aankom.

Agterna het die storie wel stuk-stuk uitgekom, en toe alles aanmekaar gelas is, klink dit so: Die proffie het hom in die basin gewas en tussen die lakens ingeskuif, toe hy skielik grootoog word. Daardie jare was ‘n en suite-badkamer ‘n rariteit, en nog te meer op Buskruitbult. Hy trek sy japon aan, en is gang op, en gang af op soek na die vertrek met die prentjie van die mannetjie op. Maar kry niks. Dis toe dat hy die klokkie vir die portier lui, en toe dié dikbek opdaag (die proffie het gemeen die fooitjie vir die tasse dra is ook vir die Geloftefeeskomitee se rekening) toe is die portier nie links nie. Of dalk juis links, soos met vandag se politiek. Dalk, vir al mens weet, nog verlangs aangetroude familie van oorle Dingaan ook nog, dié dat hy nie so ooghare vir die proffie het wat oor Bloedrivier kom praat nie. Dus help hy nie die proffie reg en wys hom die regte deur waar die mannetjie al vervloë afgeval, en niemand gebodder het om dit weer terug te sit nie. In hotelle met sulke reputasies is dit gewoonlik nie nodig nie, omdat almal mos sal onthou. Maar die portier neem die proffie na die prof se kamer se venster, trek die gordyn effens oop en beduie na die gemakkie wat doer agter in die agterplaas tussen die kerkhof se sipresse skuins in die yl maanverligte nag sy staan gekry het. Die proffie bedank die portier fooitjieloos, en staan lank na die gedoentejie doer in die agterplaas en tuur. Toe besluit hy, dit moet maar vir ligdag wag. Maar skaars het die prof die lakens opgetrek, of hy is weer grootoog, en kort daarna staan hy weer voor die venster. Seker so met die vierde opslag, tref dit die prof hy gaan mos nie weer die sokkies wat hy die dag op die trein aangehad het weer tydens die ekskursie nodig kry nie, en hy kry ‘n briljante idee. Kort hierna is die ligte in die kamer uit, en ‘n ruk later die venster opgeskuif, en eers een, en toe nog een, vlieg die kouse by die venster uit in ‘n kakiebosbegroeide bedding in. En toe hét die prof heerlik geslaap, kon die portier die Geloftefeeskomitee met ‘n skoon gewete inlig. Wat hy versuim het om te vermeld, was dat die proffie die volgende oggend, toe die sonnetjie die kamer helder verlig begin warm bak, nie wakker geword het nie, maar hom wawyd wakker geskrik het. Die een kous, so sien hy dadelik, het ‘n gaatjie by die toon gehad en toe hy dit so in die rondte geslinger het om dit by die venster uit te lanseer, het dit gelol... so sien hy toe dadelik. Hy smokkel die portier behoorlik die kamer in. “Kyk, ek gee jou tien pond as jy dit silwerskoon was en vir niemand sê nie.”

Die portier se mond hang oop terwyl hy die nuwerwetse kunswerke teen die muur betrag. “Mastah, ek gee vir mastah daai tien pond terug en nog tien pond as mastah vir my sê hoe mastah dit reggekry het.” En dis glo net hier waar die proffie se dringende gesinsake aandag moes geniet. Die Geloftefeeskomitee sit toe in die pekel. Buskruitbult kon nog nie ‘n nuwe dominees kry wat die beroep aanvaar nie, en vandat die skoolhoof by mev. Pretorius betrap is, sal hy g’n deug as hoofspreker by die Geloftefees nie. “Oom Skjeuns sal moet instaan,” verklaar Brand van Schalkwyk, die ondervoorsitter en tesourier. Hiermee het almal konsensus, ook oom Skjeuns wat besef daar is nie tyd vir dwars trek nie, en ook heimlik geëerd voel. Vandag kry Buskruitbult en omstreke ‘n Geloftefees sonder weerga, besluit oom Skjeuns heimlik, min wetende dat hy profetiese denke had. Knap voor die verrigtinge moes begin, tref die grootheid van die okkasie vir oom Skeuns. Die oop skuur is volgepak. Die gehoor sit op enige soort sitding wat hulle kon saambring, van riempiestoele tot kombuisstoele. Ook die skousaal se opslaanstoele wat so ses-ses aanmekaar vas is wat oom Skjeuns geleen en aangery het, is volgepak van mense wat te min sitgoed vir die groot gesinne gebring het. Buiteom is ‘n groot verskeidenheid treppies en ander rygoed getrek waarin en waarop mense sit vir wie daar nie in die “saal” plek was nie. Oom Skjeuns besef hy sal hard moet praat, en juis toe oorval ‘n benoudheid hom, en sy keel raak droog. Oom Skjeuns sit om kombuis toe om ‘n watertjie te gaan haal, en kom juis net daar aan toe die bo-deur oopvlieg en die huishulp die skottelgoedwater uitskiet. Oom Skjeuns kry ‘n voltreffer. Hy staan nog bedremmeld toe tannie Skjeuns op hom afkom: “Nee Skjeuns, almal is so ernstig en jy maak nog grappies!” Kort hierna kan oom Skjeuns egter droog aangetrek agter die baal wat as kateder dien instap. “Broeders en susters, verleen my ‘n oomblik om namens my gesin u algar hier op Skjeunskraal te verwelkom. “Namens die skoukomitee, net ‘n ernstige versoek vooraf. Die skoukomitee versoek dat u, as u aan die baklei sou raak, u tog nie die skoustoele moet gebruik om mekaar mee te moker soos wanneer ons Sap- en Natvergaderings hou nie. Die skoukomitee wys daarop dat die heel rye begin min raak.” En toe val oom Skjeuns weg met ‘n Geloftefeesrede soos nog nie tevore op Buskruitbult of omstreke gehoor is nie.

Oom Skjeuns wy uit oor die volk se hoogtepunte, en laagtepunte deur die geskiedenis. Met elke hoogtepunt, spring oom Skjeuns so ‘n flink sprongetjie die lug in, en die gehoor se koppe knik na bo. Met elke laagtepunt, sak oom Skjeuns so agter die baal weg, en bly ‘n rukkie daar. Dan sit die gehoor eerbiedig met geboë hoofde. Dis tog al so asof oom Skjeuns in die begin so ‘n bietjie senuagtig was, maar later is hy so driftig, hy klink soos die orakel homsigselwers. Trouens, so geesdriftig – hoewel effe skeef die lug in – is ‘n hoogtepuntsprong, dat die gehoor besonder geesdriftig hul koppe die lug inruk, hul bolywe ruk eintlik agteroor. Ook twee lywige tantes wat op ‘n treppie gesit het, ruk agteroor – en daar wip die disselboom gat oor kop! Pa Jan vertel dit was te aardig – die ene niekerbokkers, toe rol die twee tantes deur die stof. Niemand trek ‘n bek nie, en ‘n klomp jong manne draf nader, help die twee tantes op, stof af, tip die treppie weer reg, en pak ‘n paar swaar plaasimplemente op die disselboom, en die twee tantes kry weer hul sit. Oom Skjeuns het intussen ‘n liederlike laagtepunt beleef, en die heel tyd agter die baal verkeer. Toe hy hervat, is sy spronge met heelwat minder veerkrag en al skuinser die lug in. Sy laagtepunte agter die baal is ook langer. Toe bars ‘n jong man in die “saal” kliphard los: “Nou kan julle my skiet, maar nou gaan ek eers lag!” Toe dawer dit, soos die mense wat die tantes se petalje kon sien, uitbars van die lag. Oom Skjeuns beleef egter vir die duurte van die lagbui weer ‘n laagtepunt. Toe sake weer stigtelik is, en oom Skjeuns meen om homself van agter die baal uit te lanseer, lanseer hy hom te skjeuns uit, en slaan lankuit op die stoor se vloer neer. En hy kom nie weer op nie. ‘n Ondersoek ter plaatse deur die lid vir Gesondheid van die Geloftefeeskomitee kondig aan: “Hy is flou, ek dink ons verdaag.” Dr. Cornelissen was nog nooit ‘n man vir lang vergaderings nie, en as hy ‘n kans soos hierdie kry om sake kort te knip, dan benut hy dit. Een van die jong manne het agter die baal gaan ondersoek instel. In die somers neig giftige slange mos om in bale te gaan skuil, en as mens so raas, kan ‘n giftige slang mos heel befoeterd raak en naderhand iemand pik. Sy graafwerk in die baal lewer egter ‘n heel ander buit. “Kyk net hier!” brul hy. “Oom Skjeuns het met elke laagtepunt bietjie versterking kom neem!” en hy lig sy buit – ‘n amper leë brandewynbottel, omhoog.

Politiek van die blikbord
Deur die half toegewasemde kombuisvenster sien ek hulle aankom. Netjies agtermekaar karring hul beentjies agter hul “rygoed” aan en trap slordige spore deur die dik, spierwit ryp. Jonas, die voorste, se “ryding” bestaan uit ‘n bandlose fietswiel wat hy vernuftig met ‘n stok aanjaag. Salmon, die tweede, “ry” met ‘n draadkar wat mens sommer oor die verte kan sien, oor verbluffend baie detail beskik. Die kleinste, skaars twee bakstene hoog, Johannes, sleep sy “ryding” aan ‘n draad agter hom aan. Hierin is ‘n blik nuwe sokkerbal. Seker oom Anneries se bydrae vir die “gees” van 2010. My kinders gaan verwoed sokker speel, weet ek. Die ding waarin die bal gesleep word lyk na ‘n langwerpige visblik. Sy boot, het ek later verneem. Hulle trek langs mekaar voor die agterdeur in. Oupa Anneries in roep huis in na die bulletjies: “Jonas-hulle is hier!” Die bulletjies was besig om iewers in die opstal ‘n stamoorlog te voer. Dis nog ‘n klomp onopgeloste kwessies van die vorige dag se ver ry plaas toe wat uitgepluis moet word. Maar oupa se nuus laat die bakleilus op slag verdamp. Met gilletjies van vreugde troep die spannetjie by die huis uit. “Jonas!” “Salmon!” Johannes was met die vorige jaar se kuierslag op die plaas nog te klein, en dié is nog half vreemd aan die stadsbulletjies. Die spelery is eers vlak by die agterdeur. Ek kry bitter koud vir hul onthalwe, waar ek hier langs oom Anneries voor die Aga sit. Vir die kleingoed is oom Anneries “oupa” al is hy ouma Marié se tweede man. Oupa Japie self is ‘n paar jaar tevore oorlede. Nie lank nie, toe neem Sanna vir Jonas-hulle hul koffie en brood. “Fire buckets” het ons met diensplig daai groot blikbekers genoem. Die snye brood is so dik soos twee duime, en die stoom trek uit hulle uit. Met die blikbekers en blikborde leeg by die agterdeur gelos, verkas die spelery eers na die stoor toe, waar dit warmer is. Later die dag sal die omgewing aan die beurt kom, en wanneer dit warm genoeg is, sal die spannetjie agterop die bakkie saamry. By oupa Anneries op die plaas is daar verskriklik baie te doen. Danksy ‘n syferfontein selfs kleilatgooi in die winter. Botterboom-ry nou nie, maar ou sinke waarvan die een punt effe opgebuig word, deug net so lekker om teen die buitekant van ‘n gronddam se wal af te ry. ‘n Paar fietse van bedenklike herkoms wat oom Anneries by ‘n vendusie aangeskaf het, dien as rygoed as die spannetjie haastig is. Die binnebande is lankal met plastiekpyp vervang, en as die fietse ooit remme gehad het, was dit nie onlangs nie.

Is daar bietjie meer tyd, is daar genoeg rygoed om opgesaal te word. Maar dié vakansie sou anders wees, kom ons oor middagete agter. “Pa, Jonas wil weet hoekom hulle hul koffie in blikbekers kry?” Oudste Bulletjie roer die saak aan. “En blikborde,” sit Tweede Bulletjie vers twee in. Jongste Bulletjie se verstaan van politiek lê nog ver in die verskiet, en hy knaag nog te lekker aan ‘n stuk droëwors om hom met kwessies van die lewe te bemoei. Maar tussen die twee versies het ek al oom Anneries sy asem skerp hoor intrek. My kop woer-woer nog, toe sê Ouma Marie: “Hoe lank dink julle gaan erdebreekgoed hou terwyl julle so woes speel?” Verlig sien ek die vrae is behoorlik, deeglik, en duidelik opgeklaar. Wat die Bulletjies betref, in elk geval. Toe die Bulletjies weer na buite stroom, bly die grootmense agter. Ouma Marié pak die saak sommer dadelik aan: “Voor ‘n mens nou die dam onder die eend se jis uitruk...dit laat my dink aan die ma wat so geskrik het toe haar spruit by die huis kom en vra waar hy vandaan kom. Die ma het gehoop daai vraag sou eers heelwat later kom. Om vir tyd te speel terwyl sy vervaard dink, vra sy hoekom hy wil weet. “Verduidelik die mannetjie: ‘Toe ons so speel sê Pietie hulle kom eers van Johannesburg af, en Kosie sê hulle kom van Durban af. Nou waar kom ons vandaan?’ “ Vroulief giggel verbouereerd. Ek en oom Anneries sit met diep kepe tussen die oë. Iets fluister vir ons dis nie die einde van die storie nie. En dit was nie. Aandete: “Jonas sê hulle het nie eens spoellewwies nie.” “En Jonas sê hulle kan elke dag net ‘n rukkie TV kyk.” Nou is daar geen keer aan oom Anneries nie. “As daai bl*&sem van St*ntsake weer sy pote op die plaas sit...!” Ouma Marié druk haar man ferm op die skouer: “Die kinders, my man.” “Gaan pak jul legkaart by die verwarmer in jul kamer, kinders,” gelas Vroulief. Die kinders laat hulle nie twee maal nooi “om van tafel verskoon te word nie.” By ouma Marié is aansit by die eettafel ononderhandelbaar. En dit bly nie by net eet aan tafel nie, die kuier moet ook daar voortgesit word. Die kiertsregop eetkamerstoele, glo ouma Marié is goed vir haar rug en dus almal anders se rûe. My rug is na ‘n halfuur morsaf, en ek verlang na die sagte sitgoed in die sitkamer. Eendag, toe ouma Marié nie by was nie, brom oom Anneries hy kan dit nie verstaan nie. Soos klokslag is die kos nog nie klaar terwyl die tante Sewende Laan kyk nie, maar net soos die TV-nuus moet begin wat hy weer graag wil kyk, word hy tafel toe geroep. Dan is die TV buite sig- en hoorafstand.

“Toe koop ek ‘n klein TV vir die eetkamer, toe wil die tante my skei.” Ek self was nog nooit in ouma Marié se goeie boekies nie, dus as klaar geëet is, sê ek dankie vir die kos, maar nou is my rug af, en ek gaan sitkamer toe. In die proses is ek dieper is die “dog box” maar daarmee het ek vrede gemaak. Nie lank nie, sal oom Anneries by my kom inval. Dan kyk ons die nuus wat opgeneem is. Dit het ons al geleer om in stilte te doen. Vroeër het ek en oom Anneries ‘n slag gebrom oor dinge soos die Esybiesie se bevooroordeeldheid, toe kry ons ‘n skrobbering oor ons ongeselligheid om by die gesels aan tafel weg te loop om hier voor die verderflike TV (wat ook Sewende Laan uitsaai) te kom sit en kyk. Maar vanaand is daar ernstiger sake op die hart. Die weerwanvoorstelling is skaars klaar, of oom Anneries spreek sy woord. “Daai *&^ vent van Str*ntsake maak net moeilikheid. Van hy tydig en ontydig hier op die plaas aangesit gekom het, is alles te kort of te lank... “En om te dink, ek was seker die eerste boer wat water en krag na die strooise aangelê het. Ek betaal meer as die minimumloon... “Nou die ou van Grondsake – kom hy nie die protokol vir plaastoegang na nie?” Oom Anneries sug. “Hy sê hy weet nie van die protokol nie, maar al is daar so ‘n protokol, geld dit hom nie want hy is van Lênt Effêrs. Dan bel ek die polisie om hom vir betreding te laat gryp, dan sê hulle hulle weet ook nie van so ‘n protokol nie, en dan bel ek die landbou-unie en na ek met so die derde een gepraat het dan weet hulle daarvan en dan sal hulle die mense weer inlig oor die protokol. “Maar ‘n dag of twee later dan is die opstoker weer hier en sê hy weet nog steeds niks van die protokol nie. Het al gedink om per ongeluk ‘n skoot tussen sy pote af te vuur, maar ek is nie lus om soos Skip Wandrag die naweek in die selle te sit nie.” “Maar hy het mos ‘n skadevergoedingseis teen die polisie gewen.” “Ja, maar hy was nog steeds die naweek in die selle.” Ons sit ‘n oomblik. “Jy sal met jou seuns moet praat,” vervat oom Anneries. “Ek kan met Jonas-hulle praat. Maar dan is die ou van Str*ntsake oormôre weer hier en dan het ek weer allerlei moeilikheid. Jy kan nie glo wat ek alles na die tyd moet opvreet nie.” “Oom Anneries, ek sal met die Bulletjies praat. Maar die winde van verandering het my bietjie onverhoeds gevang...” “Winde van verandering...” brom oom Anneries. As dit by winde van verandering kom, dan sou hy ‘n orkaan ook terugverander het. “Dink oom nie dis dalk ‘n grondeis wat broei nie?”

“Nie restitusie nie,” sê oom Anneries. Met die sluiting was daar beslis geen eis teen die plaas geregistreer nie. Maar grondhervorming, sal ek nie stry nie. Omtrent almal wat nie seuns het nie, begin op hul oudag geteister te raak om die grond via Str*ntsake aan die plaaswerkers te verkoop. Maar dis ‘n erfplaas dié en my dogter kry dit eendag.” Met dogter bedoel hy vroulief, sy stiefdogter. Sy eerste huwelik was kinderloos. “Straks kry een van die Bulletjies lus vir boer eendag...” Dis natuurlik nie iets wat nou vir hulle gevra moet word nie. Die plaas assosieer hulle met vakansie en speel, en op daardie ouderdom klink dit soos die hemel moet wees. Ek praat met die bulletjies, omsigtig, minder omsigtig ook. Ook hard en duidelik. Maar die winde van verandering het nie sommer ophou waai nie. Die volgende dag: “Oupa, Jonas sê sy naam is eintlik Si..Si..” “Simon!” val Klein Bulletjie hom in die rede. “Nee man, nie Simon nie,” sê Groot Bulletjie. Hy kyk hoopvol, amper pleitend na sy ouma. “Sipho,” help ouma hom uit sy woordstrikke. “Ja, Sipho,” vervat Groot Bulletjie bly. “Die ander sê hulle name is eintlik ook verkeerd, maar ek kan nie onthou wat hulle regte name eintlik is nie,” sê Tweede Bulletjie. Weer is ouma ter hand met ontlontende woorde: “Maar in die stad het julle ook mos ander name. Kobus, Francois en Stephan. Hier het julle plaasname.” Die lig gaan vir die Bulletjies op, maar ek begin wonder of hul ouma nie nou net besig is om die oomblik van waarheid uit te stel nie. Die aand praat ek weer met die Bulletjies. ‘n Bietjie van politiek. Maar hoe vertel ‘n mens nou vir die knape dat iets wat voor hul geboorte gebeur het, op hul brood gesmeer word en nog baie gesmeer gaan word? Soos dit is, word die kinders groot met ‘n persepsie dat die juffroue by die skool lieg soos ek en vroulief hulle met huiswerk reghelp, veral as geskiedenis aan die beurt kom. Hulle glo vas die Esybiesie lieg soos hulle my gereeld hoor raas oor iets wat verdraaid aangebied is... Om nou te hoor hul vakansiespeelmaats lieg ... Ek gaan slaap met ‘n klip op die bors, daai aand. Sommer vroeg die volgende oggend breek die slag van Bloedrivier buite uit. Die grootmense los die stomende bekers koffie en storm uit, maar toe is die slag

klaar gelewer. Jonas, of te wel Sipho, huil-skree soos ‘n maer vark, en hou sy oor vas. “Groot Bulletjie, hy Dzônas gemo*r,” doen Salmon verslag. “Dzônas hy gasê oubaas Anneries hy ês die varrik, toe Groot Bulletjie hom hêtte gedônner.” Jonas het intussen soos ‘n loeiende sirene afgesit na sy stroois toe. Op die “slagveld” lyk dit of Groot Bulletjie ‘n heldedaad verrig het – wit en swart.” “Daai Dzônas, sy kop hy raas,” verklaar William, die trekkerdrywer wat toevallig op die werf was om te kom roomkanne aflewer. “Es goet die Groot Bulletjie hom hette gemo*r.” Nie lank nie kom Willemien, Jonas se ronde ma, met ‘n steeds skreeuende Jonas agterna, die voetpaadjie opstal toe aangestoom. Sy is wild boos, kan ‘n mens van ver af sien. Maar Willemien is nog sommer ‘n hele ent van die werf af, toe skree Sanna vir Willemien in Suid-Sotho wat gebeur het. Hier, so diep in die Oos-Vrystaat in, is daar al baie Zoeloes, soos ook Sipho se ouers, maar almal verstaan Sotho goed. Willemien kom tot stilstand, en Sipho besluit dis nou ‘n gawe tyd om op te hou tender vir ‘n Oscar. Hy besluit ook dis nou ‘n gawe tyd om flink te makeer, maar te laat. Willemien gryp hom aan die arm, en die volgende oomblik val die houe. Die sirene word op slag weer aangeskakel. Na ‘n ruk kry Sipho homself losgewikkel, en lê die rieme neer. En net daar het die winde van verandering ook ophou waai. Vroegoggend val Salmon met sy draadkar, en Johannes met sy “boot” voor die agterdeur in. Eers na hulle hul koffie uit die “fire buckets” gedrink en hulle aan die heerlike dik, warm snye brood versadig het, word die spelery na die res van die werf en verder uitgebrei. Van Jonas is geen teken nie. So twee dae later is die drie Bulletjies saam met Salmon en Johannes agter op die bakkie. Op pad lande toe. Oupa ry egter ‘n ompad, en hou by Sipho-hulle se stroois stil. Willemien loer uit, en oom Anneries praat met haar Zoeloe. Willemien knik, en is terug die stroois in. Toe gaan daar weer ‘n sirene aan, en kort daarna kom sy met ‘n skreeuende Jonas aan die arm by die stroois uit, en pluk hom onsagkens by die ander agter op die bakkie. Hier sit hy dikbek. Op die lande wink oom Anneries vir Jonas nader, en Jonas volg hom skoorvoetend ‘n ent weg. Daar sien ek, so op ‘n afstand, praat oom Anneries met hom, praat ernstig. Jonas skud sy kop op en af. Hy verstaan. Oupa gee vir hom iets wat ek op hierdie afstand vermoed ‘n stuk biltong of droëwors moet weet. Toe kom hulle terug, beide ‘n breë glimlag op die bakkies. Die spelery vervat asof daar nooit ‘n onmin was nie.

‘n Dag of twee later doen Groot Bulletjie verslag: “Oupa, Jonas sê oupa is Y – wan. Wat is Y-wan, oupa? Ons speel nou so lekker ek wil hom nie onnodig klap nie.” Ek verduidelik. So ‘n week na die vakansie is dit oom Anneries wat van die plaas af lui. Dis nog die koffiemeule-model, en om stad toe te lui is ‘n hele storie. Maar oom Anneries moet darem dié nuus rapporteer. “Die ou van Str*ntsake was weer hier maar iemand het hom met ‘n klip platgegooi. Die spul sweer hoog en laag dit was Sipho...vir ingeval het ek hom ‘n sakkie biltong gegee.” Ja-nee, nou is daar weer vooruitgang met oom Anneries se boerdery. Hy is mos Y-wan, en niemand stry meer nie. Behalwe miskien die ou van Str*ntsake.

‘n Dokter maak ‘n boereplan
Die buitelandse sokkertoeriste wat nou so met hul GPS’e en al, en soms danksy dié navigasie aan die verkeerde kant van paaie beland en al ‘n paar ongelukke tot gevolg het, roep herinneringe op van stories wat Pa-Jan vertel het. Pa-Jan is oorlede lank voor GPS’e nog iemand se breinkind was. Die huidige ongelukke, so smaak dit vir my, word gemaak wanneer die toeris op ‘n dubbelpad-snelweg by die afdraai verbyry. Dan, so verneem ek, sê die GPS: “Make a u-turn.” En dan maak daai toeris so. Behalwe vir die Engelsman wat vir strafbare manslag aangekla word, vertel ‘n kennis hy en ‘n ander motoris het nou groot skade. Syne alleen is R30 000. Ry nog op die verbypad om Bloemfontein, toe hy net anderkant ‘n afrit die kar reg van voor, teen die verkeer in sien aankom. Oop en toe. Hy swaai toe na die ander baan uit om die ongeluk te voorkom, waarop die motoris agter hom die wegswenk-kans benut om verby te ry – en toe ook die aankomende kar sien en in onse kennis in vasry. Die een wat die ongeluk veroorsaak het is egter ongedeerd en vort. En, seg die polisie, daai kar was mos nie in die ongeluk nie. Vir wat wil hulle nou ‘n saak teen hom maak? Die logika, soms... Pa-Jan vertel van die tyd toe die goewerment half streng begin word het dat mense hul liksense (rybewyse) moes begin bekom. Op ‘n dag stuur die boer sy voorman met die bakkie in dorp toe om sy liksens te kry. Die man wat aangewys is om die liksense uit te skryf is in sy werkswinkel doenig, en kan nie toe nou mooi aandag skenk nie. “Ry gou om die blok,” sê hy vir die voorman, en hy gaan aan met sy werk.

Na ‘n ruk begin hy agterkom maar die voorman vat darem nou half lank om om die blok gery te kry, maar ‘n ruk later kom die voorman toe wél daar aangestap, stuurwiel in die hand. “Toe ek daar aan die anderkant kom het ek die trok omgegooi,” sê die voorman. “Ai man, ek het die liksens nou klaar uitgeskryf. Jy moet hom maar vat.” PH Nortjé het ook geskryf van die twee ooms daar in die kloof wat niks wou weet van die goewerment se verspottigheid om mense te dwing om links op die pad te hou nie. Hulle het nog altyd, van perdekar-dae af, altoos aan die kant van die pad gery wat die beste was. Tot die twee eendag op ‘n blinde hoogte by mekaar verby ry, altwee aan die verkeerde kant van die pad. Toe het hulle darem die goewerment se lawwigheid ingesien. Omdat ek nie kan onthou of al die stories wat, soos ek onthou, wél aan ds., later dr. Steenkamp, toegeskryf kan word nie, en die mense by wie ek die stories gehoor het al almal weggeval het, noem ek hom maar ds. Jonker. Ds. Jonker het ‘n jong dominee opgevolg. Dié jong dominee se teenspoed het al begin nog voor hy op sy standplaas aangekom het. Destyds was dit gewoonte om die nuwe dominee ‘n ent buite die dorp te gaan ontvang. En daai dag was dit verskriklik warm soos dit maar in die Namakwaland in warm kan raak. Die jong dominee het dus vir die ry in sy kortbroek, kortmouhemp en sandale aangehad, met sy swart pak op die agterste sitplek. Dié het hy beplan, trek hy ‘n ent van die dorp af aan voor hy nou in die verwelkomingsgeselskap inry. Maar hy had hom misgis met die Namakwalanders se idee van afstand, en ‘n “entjie” buite die dorp is toe sommer vreeslik ver buite die dorp. En so betrap hulle die jong dominee in die wêreldse kleertjies. En maak nie saak hoe hy probeer het nie, die ou mense wou hom net nooit aanvaar nie. Met die eerste beskikbare geleentheid moes hy maar sy goedjies vat en loop. Toe kom ds. Jonker. Hy was al meer ervare, en sy voormense het self uit dié wêreld gekom. Pa-Jan vertel dis ook nie ‘n honderd jaar nie, toe breek daar ‘n ‘n vreeslike onmin tussen ‘n ou oom, en ‘n ou tante op die dorp uit. Of die twee met mekaar getroud was, dit weet ek nou nie. Maar die onmin kring so uit, dat die hele Nieuwoudtville naderhand in ‘n oom-kamp, en ‘n tante-kamp verdeel was. Die kerkraad sit oor die saak, en vra domineesgoed moet tog maar kyk of hy nie weer vrede op die dorp kan bewillig is nie. Ds. Jonker gaan spreek eers die oom. Praat mooi, en die oom is naderhand inskiklik. ‘n Gebed word gedoen, en die een helfte van die probleem is besweer. Toe gaan die dominee na die tante. Dis ‘n lang gesprek, en baie mooipraat, maar uiteindelik is die tante ook inskiklik. En toe begaan die dominee ‘n flater: “Tante moet sommer vir die oom bid ook.”

“Wat!” skree die tante. “Wat die sil die Jirre van my dink as ek met so ‘n str*ntgebed by Hom aangesit kom?” Huisbesoek in die Namakwaland in is ook maar rof op ‘n domineesgoed, veral op die plase. Bygesê, tuis is die kattebak darem weer vol van die plaasgoed soos skaapboude, waatlemoene, gedroogde perskes en so aan. Maar die gasvryheid het ook ‘n nadeel. By elke opstal, maak nie saak hoe warm dit kan wees nie, is omtrent die heel eerste woorde: “Dominees se keel is seker vreeslik droog van die stowwe. Ons maak gou ‘n lêkker kommetjie gaat.” Gaat is koffie, maar nie sommer enige koffie nie. In die skaars tye word hy van die witgatwortel gemaak, vandaar die naam “gat” wat so ‘n bietjie uitgerek uitgespreek word om dit darem meer fatsoenlik te laat klink. In beter jare is dit koffie, maar word steeds gaat genoem, en net so sterk aangemaak. Boonop is beeste maar skaars, en het die tradisie ontstaan om daai sterk gaat sonder bies (melk) voor te sit. Nou, met huisbesoek, wil ‘n man se kiewe na so ‘n derde kommetjie gaat al op ‘n knop trek. Maar by die volgende opstal, waar ‘n weduwee woon, is dit maar weer so. Dominees wag in die voorhuis, terwyl die tante die lêkker kommetjie gaat aanmekaar slaan. Sonder bies. Dit is toe ook sommer ‘n bielie van ‘n koppie. Gelukkig onthou die tante sy het sulke lekker beskuide gebak en gaan haal vir die gas. Ds. Jonker maak ten volle gebruik van die geleentheid, skuif die onderraam van die venster oop en skiet die koffie in die tuin in. Gelukkig is dit nie so ‘n taai affêre waarin die lepeltjie so staarig omkantel soos wat hy hom in sy verbeelding indink nie, maar darem taai genoeg dat die beker die koffie tuin toe volg. Daar staan die dominee met die oortjie in die hand. Toe die tante terugkom, vertel die dominee van die vreeslike ramp. Die tante was net by daai deur uit (en hy beduie in die rigting van die gangdeur) toe kom hier net so ‘n groot brommer (en hy beduie met sy duim en wysvinger sommer ‘n hele ent uitmekaar) en zoem-zoen en kom loop val hier in sy gaat in. En dis toe hy die spjeulletjie uitskiet wat hy nou die vreeslike skade het. “Ag wat, dis niks. Maar dominees het seker nou vreeslik geskrik. Ek gaan maak gou vir dominees ‘n lekker kommetjie sterk gaat vir die skrik.” Sonder bies. Maar toe, het tannie SC vertel, is die dominee oorsee, en ‘n jaar of wat later is hy terug van Amerika af en sê hy is nou ‘n dokter. Toe begin hy as dokter praktiseer. En dis hoe die storie terug by die rygoed kom. Op ‘n dag, na die oorlog begin het, is hy na ‘n sieke op ‘n plaas uitgeroep. Dis ook toe hy mooi oor ‘n bultjie ry dat hy die vreeslike ding oorkom, en hy reg van voor in ‘n donkiekarretjie inry.

Die twee donkies poer, maar die eintlike moeilikheid is die disselboom het die verkoeler geslaan, altwee pypies morsaf. Hande in die hare, dink die dokter, en kry ‘n flink boereplan. Met sy skalpel skil hy stukkies hakskeenvelletjies van die een donkie se voorpote af, en so prakseer hy toe twee “pypies” wat hy vaswoel. So kon hy sy pasiënt loop dokter, en terugry dorp toe. Hier is hy reguit na die vulstasie se herstelwinkel, en beduie sy moeilikheid. Die eienaar, oom Hans, krap sy kop. Met die oorlog is “parte” skaars, en kan ook maar net bestel word omdat die dokter ‘n dokter is. En dit kan lank neem. Hy bekyk die dokter se praksasies en stel voor die dokter ry intussen so, want selwers kan hy nou nie op ‘n beter plan kom nie. Dis ook ‘n gesonde ruk later toe oom Hans die dokter oplui en laat weet die “parte” het gekom. Dokter kan maar gou kom inloer, dan word die pypies gou ingesit. Toe die donkiehakskeenvelle afkom, is hulle so kliphard soos ysterpyp, maar hulle word afgehaal en die nuwe “parte” ingesit. Ook maar net klaar hiermee stap ‘n boer by die werkswinkel in. “Oom Hans, jy sal my nou nie glo wat gebeur het nie. Ek ry nog so plaas toe, toe ry ek oor ‘n bultjie. En daar reg voor my is ‘n donkiekar...” Die boer is daar weg met die klipharde donkie-hakseenvelle, en moes maar tot na die oorlog daarmee ry.

Sambrele vir ‘n begrafnis
Die mense wat hierdie storie oorgekom het, is vreeslik, maar vreeslik sensitief hieroor. Dus sal ek hulle maar ‘n ander identiteit verskaf. Soos dit met gesinne gaan, raak ‘n gesin naderhand uit sambrele uit. ‘n Hele Vrystaatse winter maak dit gewoonlik nie saak nie, en as die lentereëns nog wegbly, kom ‘n mens gewoonlik eers die moeilikheid agter as dit die dag bejaarde swart dames met knopkieries reën, en mens iewers heen in die oopte moet gaan. Oom Anneries en tant Marié sou stellig nog nie die moeilikheid agtergekom het nie, maar ‘n familielid is oorlede, en hoe nader dit aan begrafnistyd kom, hoe meer lyk dit na reën, Vrystaatse winter of te not. Al te dikwels lyk dit of die werklike reën ook net wag vir ‘n groot begrafnis. Dus, toe hulle by familie in die stad kom, is hulle na ‘n bekende negosiewinkel waar ‘n mens gereeld winskopies kry. Sambrele ook, spotgoedkoop, en dus word sommer twee geneem.

Terug op die plaas, voor na die begrafnis vertrek word, word die sambrele oopgemaak om te kyk of hulle darem werk, en ‘n mens hul meganismes nou mooi verstaan dat mens nou nie in die triestigheid moet loop staan en sukkel nie. Die eerste sambreel skiet foutloos oop. Te pragtig, en oom Anneries wonder nog hoe dié gedoente nou so ‘n winskoop kon geraak het. Toe sien hy dit. Mooi groot staan daar “Jomo Cosmos” op geskryf. So ‘n sambreel mag miskien vir iemand anders by ‘n begrafnis deug, maar nie vir oom Anneries en tant Marié nie. Boonop was die oorledene nou wel nie ‘n ingeskrewe lid van die Kappiekommando nie, maar al haar simpatie het by dié dames gelê. Nee, daai sambreel sal nie deug nie. Half teen sy beterwete is oom Anneries hoopvol met die tweede sambreel se oopmaak. Wat kan immers erger wees? Maar sommer so met die oopgaanslag pryk die kopbeen, gevolg met Orlando Pirates. ‘n Kopbeen-sambreel by ‘n begrafnis! “Nôttendêm!” brul oom Anneries en veeg die sambrele van die tafel af. Dan reën hy en die tante liewers dwarsdeur sopnat, tot op sy fondament as dit moet. Ysreën ook as dit daarop aankom. Hy is liewers dood as om met dié sambreel gesien te word. Kort hierna kry die huishulpe onverwags ‘n geskenkie. Dié twee, so kort voor die Bafana Meksiko die stryd aansê, is al te in hul noppies. Hulle het nie geweet baas Anneries en mies Marié is ook in die “feeling” –gedoente in nie. Gelukkig, met die begrafnis het dit nie gereën nie. Maar so met die wegtrek by die begraafplaas toe klik-klik die ysreën saam met yskoue reëndruppels op die kar.

Die donkie is ‘n wonnerlike ding
Nee, dis nie die *&^%sem hier naby se gefufuzela-blaas al die heel oggend wat my aan ‘n donkie laat dink nie. ‘n Donkie se hartverskeurende gebalk is musiek in die ore vergeleke met ‘n “beruchte blaastoeter” soos die Nederlandse pers die *&^ noem. Nee, oudste bel van die wildsplaas af waar hy die vakansie werk. Praat eers met sy ma, en toe met die uwe. Nie hy of sy pa is telefoonmense nie, en daarom sê hy “ma sal vir pa vertel van die donkie wat sy alie gesien het.” Hy het ‘n ander woord vir “alie” gebruik. My gedagtes gaan terug na die dae toe die roete tussen my huis en die kantoor langs Bloemfontein se dieretuin verbygeloop het. Die oggend as jy inry, sien jy die donkies. Die middag op pad huis toe, nie. Die leeus, tiers en ander karnivore het maaltyd genuttig.

Maar op die wildplaas wat neef Ferdie bestuur, is daar na beste wete nie roofdiere nie. Dus vermoed ek die donkie het nie aspris sy agterent gesien nie. Maar dis toe nie ‘n donkie soos ‘n esel nie, maar ‘n donkie soos warm water en vuurmaak-donkie. Oudste bly in ‘n buitekamer en sy water word met ‘n donkie warm gemaak. Hy kan self goed stook, maar dit is een van die werkers se werk, en dié is half teë op die werk. Toe hy nou te veel aangepraat word oor die effense vuurtjies wat hy maak, vererg hy hom en maak ‘n te groot vuur. So R200 skade aan ‘n klep later word beslis dat oudste van nou af self die donkie sal stook vir warm water. Maar donkies vir warm water bring nostalgie. Jarre der jarre gelede is 110 van ons troepe op Rooikop, ‘n ent die woestyn in van Walvisbaai, gestasioneer. Om die waarheid te sê, op die grens tussen die Walvisbaai-enklawe en Suidwes, so ver as wat dit moontlik van die see en daai berugte geroes af kan wees. Want ons was kanonniers en kanonne is van metaal en daar roes metaal iets vreesliks. Maar dié basis was net ingerig vir ‘n paar wagte wat snags daar oornag het. Skielik is daar nou 110, en die druk op die storte en die toilette is toe groot. Die storte is ten dele deur sonverhitting en ten dele deur ‘n donkie van warm water voorsien. Nie genoeg vir 110 troepe nie, maar dit het darem ‘n ent weggekom. Die donkiestokery was die stoorman se werk. Sammajoor het hom “Shawmannetjie” genoem, maar by geleentheid maak Shawmannetjie droog en gooi iets in wat die kole gou sal laat vat. Amper was daar nie meer ‘n Shawmannetjie nie. Van gesighare, soos wenkbroue, was daar lank nie sprake nie. Op 17-jarige ouderdom spog hy met ‘n middelpaadjie so breed soos PW, toe minister van verdediging. Die Sammajoor noem hom van toe f, tot sy haredos weer teruggegroei het, Agbare Minister. Die toilette was bietjie van ‘n ander verhaal. Dit was ‘n sirkelstelsel waar organismes die toevoer teen ‘n spesifieke tempo verdun het. Toe is die toevoer swaarder as waarvoor dit ontwerp is, veral wanneer die kokke wat hulself sjefs genoem het meer as gewoonlik met die kos drooggemaak het. Dan verstop die spulletjie, maar die pomp hou aan met pomp. Behoede die arme drommel wat op die troon was as daai spul ontplof. Dus word ‘n plaastoilet gebou. So haastig was die manne om na veiliger trone te verskuif, dat dit in die ope lug ingewy is, en ons nie soos op die Kaapse Vlakte die spul gaan verinnerweer nie. Die sinke om het eers later gekom. Skynbaar is dit ‘n kuns om sinke van die republiek af verby Walvisbaai te kry sonder dat dit tot niet roes.

Nietemin, toe word die ou stelsel te min gebruik. Met dieselfde gevolge want dan raak dit te verdun... Ag, die leser kry seker die punt. “Die k*khuise huil vir k*k” verduidelik die sammajoor.” Die “huil” word so lank uitgerek om die punt behoorlik te maak. Want kort-kort moet iemand gaan mure en dak was. My laaste ervaring met daai soort donkie was toe ma saam met stiefpa, Barend Toerien, die plasie Eldorado buite Onrusrivier koop. Barend was wyle pa Jan se neef, en so gebeur dit dat ek ‘n van met my gewese stiefpa deel, maar nie sy skryfkuns nie (volgens die *&^% uitgewers). Dáái donkie was nou ‘n wonnerlike ding. Buite groei bloekombome wat bolle maak. En dis nie bollie nie, hoor, dis bloekombolle en hier en daar dennebolle, en daai donkie sing lustig, en ‘n man bad warm. Daai bloekombolle werk ook lekker in die kaggel as die winterreën neersif, en ‘n Vrystater soos ‘n wafferse Overberger met ‘n glasie rooi wyn kopstukke met familie en vriende gesels. Maar toe verander regulasies en kry ‘n mens vooruitgang van mense wat reken ‘n donkie is nie so ‘n wonnerlike ding nie. En dis daai mense wat ek so graag op Langoor by oupa Nic hulle wil sit. Langoor is nie gister uitgebroei nie. Klim iemand op sy rug snol hy reguit na die naaste grensdraad, en dan maak hy so al met die doringdraad af biltong van jou been. Dis deug Langoor nou net om af en toe sy hartverskeurende balke te laat hoor, en gras wat hy hier vreet, elders as bemesting neer te laat.

Oumagrootjie se móét troue
Met die kleinhuisie-moles in die Kaap kan Herrie nie verstaan hoekom die volkie saans vasgenael voor die TV sit en sepies kyk nie. Ja, sê Groot Herrie, die kleinhuisiemoles laat die k*k behoorlik spat ... by wyse van spreke natuurlik. Maar saans sit die nasie Sewende Laan en kyk, omtrent soos ‘n eietydse boekevat. En van boekevat gepraat, daar was al ‘n paar gevalle waar inbrekers veel meer as boeke gevat het terwyl die huismense vasgenael sit en kyk wat aangaan “in die Laan.” Volgens ‘n gewoonlik betroubare bron was daar nog nie ‘n enkele swangerskap in Sewende Laan wat nie buite die eg was nie. Tot Jan-Hendrik se eerste vrou se verwagting was in afwagting van ‘n ding met die boetie (vertel die bron). Nou, so klink dit vir Herrie, ‘n beter naam vir Sewende Laan sou die Afrikaanse naam vir die reeks, Dallas, wees. Spyk*rkaskenades.

Maar dis nie van vandag af dat die volkie darem geweet het hoe om te vry dat die rook trek nie. Van Herrie maar kan onthou is gefluister van iemand wat in die ander tyd is, iemand, wat soos Worsie gesê het oor die tou geval het, moet troue, en vele meer. Dit lyk ook of die hompiekedompies wat gebruik is, al jare lank van Indië af kom. Die moet-troue die verste terug waarvan Herrie weet is ‘n vriend se oumagrootjie. Vertel die vriend, hy was stom verbaas oor hoe dié oumagrootjie heel openlik gepraat het oor haar moet-troue. Na oumagrootjie al weggeval het, pla die ding hom nog, en hy vra sy pa daarna. Sy pa lag. “Ja, jou oumagrootjie moes trou. Toe sy nog ‘n jong meisie was, het daar ‘n vryersklong gekom, waaroor sy nog nie seker was oor hoe sy voel nie. Op ‘n dag gaan ry hulle perd, en toe die jongetjie haar op die perd help, toe skuif haar rok bietjie op en hy sien haar kaal enkel. “Toe moet ek maar met hom trou,” het ouma vertel. Dié storie het naderhand ‘n tweede vers bygekry, wat oumagrootjie heelwat later in die geskiedenis plaas. Die tweede vers het sy oorsprong ‘n ‘n gepubliseerde storie, maar Herrie kan nou glad nie onthou in watter bundel en deur watter skrywer nie. Die tweede vers lui dat die ouma se enkel gewys het toe die tweetjies op die plaas gaan stap het, en die jongetjie vir ouma deur die draad gehelp het. Met hul vyftigste huweliksherdenking kry hulle lus om weer daai stap nostalgies te gaan stap. Die plaas is toe al lankal in ander hande, maar die kinders kry ‘n toestemming gereël. Toe die twee oues by die draad kom, is dit ‘n blinknuwe draad. Deur moet hulle deur, ter wille van die besondere herinnering. Maar skaars is die tante nog in die proses, toe skop sy die oom se knieskyf dat dit heel skeef staan. Die tante vlieg op: “Nou wie het daai draad loop elektrifiseer?”

Herrie se kerrie: Smokkel met buitelanders se koppe
Die Vrystaat het miskien nie so vreeslik baie buitelanders getrek soos die sokker se ander groot gasheerstede nie, maar darem ‘n sarsie of twee. En tipies Afrikaner, sal die humorverhaaltjies ook nie uitbly nie. By ‘n gastehuis is ‘n Japannese sokkertoeris erg opgetrek met die heerlike maaltyd wat hy pas weggeslaan het. “What you say the food velly velly nice?” wil hy by die gasheer weet. Die gasheer dink op sy voete: “You push plate forward, rub your belly and say ‘Kaka!’ “ Die gasvrou hoor dit, en byt op haar lippe om nie te lag nie, maar in die proses loop die trane van lag inhou.

“Why you cly?” wil die gas besorg weet. Die moeilikheid, met die superster, Kaka, in die toernooi, is dit ook nie ‘n woord wat dié beleefde Japannees gaan vergeet nie, en stellig by verskeie ander gastehuise gaan gebruik om sy waardering vir die kos te betoon. Omtrent soos Koos wat jare gelede in Taiwan gedink het “Tsjou en Lai” is Chinees vir ontbyt in die bed. Maar die taalding en buitelanders. Jare gelede, diep in die ou Suid-Afrika in, het ‘n Stellenbosse akademiese egpaar besoek aan die VSA gebring, en daar links en regs mense genooi: “If ever you come to South Africa…” Een aand laterig, lui die voordeurklokkie, en hulle gaan maak oop. Dis Mr. en Mrs. Black. Hulle is met die skip onderweg iewers heen, en toe die skip in Kaapstad anker gooi, sien hulle op ‘n kaart Stellenbosch is sommer naby, en hulle haal die taksie (What a rip off!) en hier is hulle. Die huismense slaan gou iets aanmekaar, en stop die gaste in die gastekamer. Met ‘n nota in die kombuis vir die bruin huishulp dat daar gaste is, en sal sy asseblief vir hulle koffie en ‘n ietsie in die bed neem? Die volgende oggend hoor hulle daar word aan die gastekamer se deur geklop, en die klopper word na binne genooi. Die deur gaan oop, daar is ‘n vreeslike gil, ‘n skinkbord wat kletter en breekgoed wat...wel, breek. Die volgende oomblik storm die huishulp die hoofslaapkamer in: “Mastah, mêrrim, daar is twee voorheen benadeeldes in die kooigoed!” Net, sy het nie na voorheen benadeeldes verwys nie. Deeglik onder die indruk dat verdere huishou nie goed in die huislike geledere sal afgaan nie, word die gaste na ‘n deftige landgoed-restaurant geneem. Herrie wil-wil van Lanzerac onthou, maar nou nie so sterk dat Herrie bereid sal wees om gepresedeer te word hieroor nie. Vir die bruin kelner was dit destyds eens te erg. Die Suid-Afrikaanse gaste word beleef op gemoduleerde Engels bedien maar kom dit by die Amerikaners: “Wil djy êtjies hê?” ‘n Ruk later: “Rook djy?” Telkemale “vertaal” die gasheer maar erg generies om verleentheid te voorkom. Die bekende prof. Boelie Wessels, Herrie se peetpa, wat legendaries met Romeinse Reg geword het, en een van die min mense wat die Latyn vlot kan gooi, was in ‘n stadium ‘n Oxford-student. Hy kán die rooitaal gooi. By daai einste restaurant gaan eet hy saam met Herrie se pa en ma, en die bruin kelner praat net Engels, en word net in Afrikaans aangespreek. Maar hy byt vas met die Engels. Oom Boelie vererg hom, en spreek hom in Oxford-Engels aan. “Sal die mastah nie maar samblief Afrikaans praat nie?”

Herrie se kerrie: Sokkerkoors

Sokkerkoors het die land beet. Nie almal kry die koors om dieselfde rede nie. Terwyl sommiges euforitis onder lede het, met die vernaamste kenmerk ‘n onbeteulbare lus om fufuzelas ongeag die plek of tyd te blaas, het buurman dalk gatvolitis onder lede en voel hy om buurman se f%&kenzêla by ‘n deel van die anatomie in te druk. ‘n Klomp mense het skynbaar ook dollaritis onder lede. Dié pasiënte het drome en hallusinasies oor groot geld, met die vernaamste simptoom om hulself met prysbelading in die voet te skiet. Nog ‘n klomp het apiesitis onder lede. Dis nou soos daai apies wat hul oë en ore toedruk en van niks weet nie. Hulle wil nie hoor van die slaggate in die paaie nie, hulle wil nie hoor van geweldsmisdaad nie, hulle wil nie weet van vervalste kaartjies in omloop wat tot teleurstelling of woede by hekke gaan lei as die kaartjie “hop” nie. Hulle wil nie van Julius Malema se sangtalent weet nie. Hierdie siekte is die gevaarlikste, want dit kan ander mense ‘n vals gerustheid verskaf. Dan is daar die kennerisitis-weergawe. Dit is nou die mense, onder andere joernaliste, wat steeds niks van sokker weet nie maar van die Konfederasiebeker af hul lywe kenners hou. Hul vernaamste simptoom is dat hulle op sterkte van die Bafana se vertoning in daardie toernooi meen die Bafana het ‘n sterk kans. So min weet hulle dat hulle nie opgelet het van die besoekende spanne het bitter teen hul sin kom deelneem en dat hul grootste inspanning was om beserings te probeer voorkom nie. Nee, die wêreldbeker is ‘n heel ander “ball game.” Nee, nie oor die ander bal, die Jabulani met sy nuk om ‘n eie wil te hê nie, maar omdat die spelers wat nou kom strate beter gaan speel. Gelukkig, skynbaar ook, die Bafana. Maar vir ‘n groot deel van die bevolking is sokker dié sport. As Fifa so oor die speeloppervlaktes van die wêreldbeker-sokkerstadions fief, sal hulle stellig hartaanvalle kry as hulle die “sokkervelde” sien waarop baie van die land se mense verwoede wedstryde speel. Of dit nou twee plaasskole is wat mekaar die stryd aansê, of die werkers van twee plase. In Qwaqwa is ‘n veld of twee waar dit ‘n ramp is as die bal aan een kant van die veld uit is, want dit is ver na doer onder in die vallei om die bal weer te gaan haal. En nog verder as die stroompie onder in die vallei loop. By geleentheid jare gelede het Komops ‘n spannetjie by Gariepdam leer rugby speel – op die span se gereelde sokkerveld. Die kannetjies het mekaar met mening platgeduik, maar as die stof gaan lê en die gevolge van so ‘n duikslag gesien word, is daar gewoonlik ‘n lelike besering of twee. Dis klipharde gruis. Maak nie saak hoe klein nie, in ‘n sokkermal-omgewing sal selfs die jongste hul helde se toorwerk met die voete en bal probeer naboots, soms met verbluffende vernuf. Bykans enigiets is ook geskik om as sokkerbal te dien, of dit nou ‘n tennisbal met ‘n gat in is, of ‘n vlugbal wat by die skool voete gekry het. Omtrent net krieketballe deug nie, want straatsokker word gewoonlik kaalvoet gespeel as mens jonk is, of met verslete skoeisel as mens ouer is.

Oor ‘n paar weke skop ‘n ander soort sokkerkoors in, naamlik werklikheidsitis. Dit het baie ooreenkomste met babelas. Die belangrikste is egter dat dit aan onse mense die geleentheid bied om die beste sokkervoetjie voor te sit, want dit is die beeld wat die besoekers terug buiteland toe gaan neem. Dan gaan ‘n gemeenskap se lojaliteit nie gemeet word aan hoe groot sy sokker-euforie was nie, maar hoe skoon sy woongebied, hoeveel mense Sondae opruk kerk toe, hoe veilig so ‘n omgewing is... Smeer aan en kom! Wat Herrie betref, net sonder die f*&kenzêlas.

Herrie se kerrie: Boererate teen fufuzelas
Jare gelede is ‘n skatryk boer oorlede. Met die lees van die testament blyk dit die nasate erf ruim aan plase, aandele, ‘n strandhuis, kontant, vee en vele meer. Die jongste word egter nie hier genoem nie. Uiteindelik kom die jongste in die testament darem ook aan die beurt:”Freddie, my jongste. Pa het jou nie vergeet nie. Aan jou bemaak ek ‘n rol doringdraad. Dit is al wat jy nie deur jou agterent getrek sal kry nie.” Dié storie net as aanloop om by dié deel van die anatomie te kom wat in die meeste boererate teen vuvuzelablasers aan die beurt kom. As ‘n man so na dié boereraat kyk, sou ‘n mens reken dat ‘n dokter wat adverteer dat hy nou so ‘n danige yster is met die verwydering van fufuzelas daar, dan dink ‘n mens kon hy skatryk word. Maar die dag na die groot opening is dit heelwat stiller hier in Herrie se omgewing. Miskien het die feit dat Herrie ‘n aar gebars het en buite gaan bulder het hoe Herrie dié boereraat gaan implementeer, iets daarmee te doen. Miskien het knapie wat die naaste was se eie pa ‘n aar gebars... Maar Herrie lees dié blasery is rof op die lippe. As ‘n mens nou so ‘n dag lank jou eie gehoor aangetas het, word die lippe, en skynbaar nie die ore nie, eerste seer. Of miskien het dit iets gemeen met Tolla se storie van die troep wat ‘n boksie mêkies wil koop vir ‘n dampie agter die brandstoftenks. Die winkelassistent skandeer die boksie: “R35,00” seg sy. Die troep maak beswaar. Maar die assistent hou vol. As die boksie geskên is en die “till” sê R35, dan is dit R35. Die troep se rooklus verdamp. “Jy weet natuurlik waar jy ‘n R35se boksie mêkies kan indruk. “Nee, dit kan ek nie doen nie. Daar is reeds ‘n R85 se komkommer.” Mev. Herrie kry ‘n selfoonvideo. Dis ‘n ou op ‘n motorfiets, met ‘n fufuzela wat agteruit steek (by die ou, nie die motorfiets nie), met byklanke en al. Ons stuur dié “boodskap” vir oudste wat die vakansie op ‘n wildsplaas werk aan. Die aand laat weet hy dit veroorsaak pandemonium. Dis na mense op die naaste groot dorp aangestuur en daar is dit nou al wyd en syd gestuur.

Van die boererate wat omgestuur word, sal beslis werk, maar dis minder ordentlik om dit aan te stuur. Van die rate is so doeltreffend, meen Herrie, die blaser sal op slag sy blaaslus verloor. En ja, Herrie het die beproefde raad gesien van waar ‘n mens die blaser met die paintballgeweer kan skiet. Dis gewaarborg om, by wyse van spreke, die blaser ‘n ander deuntjie te laat uiter. Iets wat die fufuzela se geluid soos musiek in die ore laat klink. Ander is heel mak, soos om die ding om die blaser se nek te knoop. Ander meen om dit by die een oor in te druk, sodat dit anderkant uitkom, sal g’n skade aanrig nie, want iemand wat so aangaan met die ding het waarskynlik net een breinsel, wat hy met so vier of vyf ander blasers deel. Party is meer kreatief. Soos die een waar ‘n mens vir die ou by die werk wat jou so boor ‘n fufuzela persent gee. Gaan blaas dan ‘n paar keer ‘n fufuzela voor daai ou se kwaai buurman se huis, en laat die wette van die natuur aan hulself oor. Omtrent soos die tingerige outjie by die skool wat geleer het hoe om die boelies op hul plek te sit. Skeur net die boelie se hemp, dan wiks sy ma hom. Herrie het ook oorweeg om ‘n fufuzela te bekom. Dalk sal Mev. Herrie hom dan toelaat om die enigste instrument wat hy kan speel, die blokfluit, te speel wanneer Herrie dit eendag weer raakloop waar dit dié keer weggesteek is. Maar net een kyk het Herrie van dié plan laat afsien. Blaas, blaas, Herrie se storie is uit.

Herrie se kerrie: Drinkwater
Onlangs lees Herrie In Vrystaat oor die toestand van drinkwater in die provinsie, en ook in Bethlehem en veral omstreke. Ja, water is net meer water nie. Jare lank al bring oupa Nic en ouma Engela hul eie water van Bethlehem, van Erfenis af saam as hulle vir die Herries in Bloemfontein kom kuier. Van die Engelse loop bodder het met Bloemfontein se fontein, en die ysterklipplaat gebreek het, is die eens sterk fontein nou net 'n syferwatertjie. Nou drink Bloemfonteiners gesuiwerde rivierwater vol chloor en fluoor en soms e-coli. Dus bring oupa en ouma hul eie fonteinwater uit hul eie berg saam. Intussen het die regering daai water ook tot nasionale bate verklaar en so eintlik maar genasionaliseer. En noudat dit die goewerment se water is, is dit ook al vir Herrie of daai watertjie nie meer so lekker verfrissend proes soos eers nie. Nee wag, nou praat Herrie bietjie twak. Dis baie lekker water daai. Steeds. Niks kom darem by yskoue fonteinwater as 'n man op 'n staptog in die berge is, en dis aan die warm kant nie. Kom mens by so 'n fonteinstroompie of watervalletjie, is dit darem maar die lekkerste lekkerte van 'n verkwikking. En altyd yskoud, wat lekker is as mens dit drink, maar lol as mens saans daai sele

watertjie moet gebruik om te was. Soos daai rotsgleuf in die berge in die OosKaap wat die stappers as "storthok" gebruik. "Het dit darem 'n deur?" wil 'n tante by 'n stapper weet. "Nee," verduidelik hy, "dit het net koue water. Jy hoor al van ver af die gille as daar iemand in die stort is." Maar, so het Herrie geleer, as mens regtig warm en dors is, deug enige water vir drink. Soos jare der jare gelede toe Herrie en 'n maat met die fietse van Stellenbosch na Yzerfontein gery het. Van Darling tot die see was dit grondpad met sulke diep sandstroke. En dit was bloedig warm. Sommer gou was die waterkanne dolleeg, en toe is dit uitkyk-ry vir enigiets wat water bevat. Gewoonlik veesuipings vol parravissies en muskietlarwes en parraslyk. Maar as mens toe-oë drink, was dit steeds die ene lafenis. Wat Herrie laat dink aan die slag doer op die grens, toe die generaal-majoor van die Medics 'n tydelike basis besoek. Hy verneem toe by die troepe hoe hulle hul water drinkbaar kry. "Generaal sien," verduidelik die korporaal, "ons gaan skep die water by die rivier. Dan gooi ons dit deur 'n sif, en dan deur 'n doek. Dan kook ons dit sewe minute lank, en as dit afgekoel het gooi ons 'n watersuiweringstablet in. En net om doodseker te maak, drink ons bier."

Op die oorkantste pawiljoen
Vanoggend, met iemand wat knaend ‘n fufuzela iewers in die omgewing blaas, aanhoudend en irriterend blaas, het ek al twee e-posse gekry waarin ek aangespreek word oor my negatiewe nuuskommentaar van vanoggend. Ek moet my swaarmoedigheid los, en saam fees vier. Die land verdien dit, en so aan. My gedagtes gaan terug na my kleintydse ervarings van atletiekbyeenkomste op Coetzenburg in Stellenbosch. Dicky Broberg, Danie Malan, Marcello Fiasconaro en Div Lampbrecht was almal manne wat skares getrek het. Op die pawiljoen oorkant sit die bruin mense. “Pa, hoekom bly sit hulle as ons die volkslied sing?” My hars bars amper uit my hempie soos dit van trots swel, en ek kiertsregop op aandag staan soos ons by die kadette en Voortrekkers geleer het. In alle eerlikheid kan ek nie my pa se woorde onthou nie. Dit was iets soos hulle voel nie deel van Suid-Afrika nie, hulle het nie stemreg nie. Van toe af het ek min of meer vrede daarmee, ook as dié manne amper uit Nuweland se suidpawiljoen geval het as besoekende spanne soos die All Blacks agter die doellyn gaan kuier. Was dit “Province” wat teen ‘n oorsese span op die veld is, was die lojaliteit meer verdeeld.

Toe kom die nuwe Suid-Afrika en ‘n bekende minister bly ‘n All Blackondersteuner. Tot onlangs, minstens. Al lewer daai einste land van die silwer varing Maori-spanne op wat nie in Suid-Afrika welkom is nie omdat dit rassaamgestelde spanne is. Toe kom speel ‘n Taiwannese span hier vlugbal, en die plaaslike toeskouers, bykans almal van Chinese herkoms, juig die besoekers toe. Dis volledig hul span. Niemand sê hulle is dislojaal. Toe kom die krieketspanne van “die subkontinent” hier aan, en op velde soos dié van Durban, Johannesburg en selfs Pretoria klink dit kompleet of hulle voor ‘n tuisskare speel. Niemand sê hulle is dislojale Suid-Afrikaners nie. Toe kom die Indiese president die parlement besoek, en die destydse speaker, Frene Ginwala loop byna bo-op die president soos sy as sy lofpryser optree. Maar niemand sê sy is ‘n dislojale Suid-Afrikaner nie. Intussen het twee van my familie in afsonderlike plaasaanvalle deurgeloop. Oom Wimmie is met ‘n mes gesteek, en lê die hele nag met doringdraad vasgebind voor hy die volgende oggend loskom, en omdat sy bakkie gesteel is, hy met ‘n trekker moet gaan hulp soek. Oom Wimmie was daarna nie weer dieselfde nie. Vandag sit hy in ‘n versorgingsoord na ‘n beroerte en wil met alle geweld terug plaas toe. Of die buurseun met die hartletsel – wat klein grootgeword het. Toe gaan boer hy, en hy en sy swaer word met masjiengewere afgemaai – asof daai klein deurboorde lyfie enige noemenswaardige weerstand sou kon bied. Die een sokkerstadion word vernoem na Peter Mokaba, die man wat “Kill the Boer, Kill the farmer” bekend gemaak het. Iets wat eers na ‘n appèl tot haatspraak verklaar is. Toe sit Julius Malema vers twee in met “Skiet die Boere” en die regering skop vas, gaan appelleer teen ‘n bevinding dat dit haatspraak is. My oudste maak DV vanjaar klaar met sy landboustudies. Heel moontlik is hy oor net meer as ‘n halfjaar ook op ‘n plaas. Op ‘n plaas in ‘n land waar die regering dink ‘n mens is “onopgevoed” om ongelukkig te wees oor “Skiet die Boer” gesing word. ‘n Paar jaar gelede werk ek as vrywilliger by die Krieketwêreldbeker. Ek kom ontnugter daar uit oor alles wat verkeerd gegaan en as “sukses” beskryf is. Miskien gaan dit nou beter, maar vanoggend voel dit al so half of die wind nog Wes waai. Vandag, terwyl ‘n *&^%sem iewers hier in die omgewing elke nou en dan op sy fufuzela blaas, voel ek al te veel of ek op daai oorkantste pawiljoen sit. En hoe meer ek aangespreek word oor ek nie die euforie deel nie, hoe meer voel ek soos die mense op die oorkantste pawiljoen wanneer dit Volkslied-tyd is.

Ja, ek doen ook sokkerberiggewing vir ‘n Engelstalige publikasie. Om den brode want ‘n dikbek en sy gesin moet ook eet. Van iewers moet ‘n man die euforie aangeskakel kry. Afrikaanstalige publikasies is maar taai in die bek om iemand wat vroeg in die nuwe SA “oorbodig” geraak het ‘n tweede kans te gee. “Ons almal hier in die (media-)kantoor) deel in die euforie,” lui die een e-pos waarin ek aangespreek word. Ek voel lus en antwoord met: “Ja, maar hulle het nog nie die valbyl beleef – om in ‘n pos te sit wat vir ‘n maatjie geoormerk is nie. Weliswaar ‘n blanke, Afrikaanssprekende man wat van klerk in die voertuigpoel tot adjunkdirekteur ekonomiese ontwikkeling “bevorder” is en later ANC-parlementslid geword het. En soos mens aan die Vrystaat se ekonomie kan agterkom het hy ‘n reuse sukses daarvan gemaak. Dieselfde een wat my so aanspreek het al tevore by my gekla oor ‘n klomp ervare manlike (wit) joernaliste wat by verskillende media moes die pad vat. Maar die mense wat al sedert hul aankoms in die land besteel en beroof is? Sommiges al meer as een keer. Voel hulle nie maar ‘n bietjie soos Volksblad se spotprent vandag nie?: “Steal it, it is here.” Los my vandag op die oorkantste pawiljoen. Môre voel ek dalk anders, as ek die euforie weer moet aanskakel om oor die Bafana se eerste wedstryd verslag te doen. In Engels.

Herrie se kerrie: Kangaroes in Sodom
‘n Pleistergesig van onskuld – bewusteloosheid – dis wat Piet van Bethlehem het, seg oupa Nic. Piet is natuurlik nie sy regte naam nie, want iemand kan dalk lus raak om te prosedeer. Reeds op skool – die Landbouskool op Tweespruit, het die pleistergesig handig te pas gekom toe die onnie hulle leer snoei het. Piet het, toe die onnie anderpad kyk, ‘n loot in die hande gekry en die onnie ‘n ordentlike hou gegee, en die loot weggesmyt. Toe die onnie omkyk staan Piet tussen die ander, heel bewusteloos oor wat die onnie se rumoerigheid kon veroorsaak het. So bewusteloos soos die prez se bewusteloosheid oor die stoornis wat sy kroonprins, Malema, se sangtalent veroorsaak. Later had hy die bevlieging om ‘n klomp springhase wat hy gevang het, in Johannesburg se spitsverkeer los te laat. Te midde van die chaos en karre wat mekaar stamp, hoor hy iemand uitroep: “Look, baby kangaroo’s!” Piet betrag die spulletjie met ‘n pleistergesig, g’n benul oor waar die springende gediertes vandaan kom nie.

Vertel Groot Herrie, wat landbou swot, daar het werklik iemand springhase VSA toe uitgevoer – as mini-kangaroes. Herrie is nie verbaas nie. Amerikaners is vreemd. By geleentheid was dit glad mode om troetelklippe aan te hou. Ewe met ‘n hele handleiding oor “toertjies” wat so ‘n troetelklip kan doen, soos van ‘n kussing afrol. Herrie self gaan maak dat argeoloë en paleontoloë iewers in die verre toekoms kwaai kop krap as hulle op Herrie se erf opgrawings kom doen, want Herrie dra al jare interessante klippe, soos Bethlehem se versteende hout, Parys se rooi graniet, Fauresmith se klipwerktuie en vele meer aan. Die Herries se erf het nie “inheemse” klip nie. Potklei. Diep potklei. Dus, as daar ‘n klippie op die erf beland wat nou nie iets besonders is nie, gaan dit beddings toe vir bietjie tekstuurverandering. Hier sal die tuinhulp dit pligsgetrou uithaal, en op die grasperk gooi waar Herrie die grassnyer se lem daarop breek. Of die klip teen Herrie se maermerrie vasskiet. Herrie het dus gemengde gevoelens oor klippe op die erf. Maar om enige klip as troetelklip mak te maak, dit het Herrie nog nooit oorweeg nie. Die enigste gedomestiseerde klip op die erf is die een in die gang wat die gangdeur moet oophou. Af en toe sal iemand nalatig die klip skuif, en dan, as Herrie die nag deur die slaap gang af gaan om te kyk waarvoor Pumba so blaf, met kaalvoete vir die sokker begin oefen. Dis seer, en verminder Herrie se liefde vir klippe (en sokker). Maar om terug te keer na die Amerikaners. Hulle kan natuurlik Suid-Afrikaners behoorlik terugkry, deur weer “Prairie dogs” aan Suid-Afrikaners te verkwansel. Baie gaan verbaas wees om die Amerikaners se weergawe van ‘n meerkat, eerder as iets wat aan ‘n hond verwant is te kry. En nee, dis nie van domgeit dat die Amerikaners dit nie “Prairie Cats” noem nie. Die goed blaf wel. Omtrent soos die dassies hier soms maak. En nee, die Duitsers het nie die “Dasch Hund” uit ‘n dassie geteel nie. Maar eintlik stuur Herrie die hele relaas af op die vonnis wat die ANC vir Malema opgelê het oor hy Zuma met Mbeki durf vergelyk het. Hy moet onder meer terug “skool” toe om woedebeheer aan te leer. Die swaarste straf wat iemand Herrie kan oplê is om hom terug te stuur skool toe. Nou, aan die regte kant van 50, kry Herrie soms nog nagmerries dat hy op skool is. Maar Herrie meen terug skool toe stuur as Malema nie ook Juffrou de Kock as onnie op die koop toe kry nie, sal darem eintlik nie veel werd wees nie. Hy sal byvoorbeeld nie sy “W” vir Wiskunde en “H” vir Houtwerk opgeskuif kry nie. Want sien, die nuwe regering het Juffrou de Kock se slaankrag tot niet gemaak. En sal Malema seker ook springhase vir klein kangaroes aansien. Nie dat ‘n dier noodwendig is wat mens dink dit is nie. Boy Louw het by aanskoue van ‘n kangaroe uitgeroep: “Goodness gracious, what a mice!”

Koos, wat onder die invloed van sy Roomse bure wat erg getamteer is deur Koos se Vrydagaande se steak braaiery, tot die Roomse sienings bekeer is. Met die sakrament seg die priester nog: “You were born a Protestant, you were raised a Protestant, but now you are ‘n Catholic.”

Blik Oor oor orige sokkerballe
Die oorsese spanne wat aan die Fifa-toernooi kom deelneem kla steen en been oor die Jabulani, die bal wat amptelik tydens die toernooi gebruik gaan word. Word al die klagtes bymekaar geklits lui dit min of meer die bal is onvoorspelbaar, verander in die lug van rigting en reageer verskillend op verskillende hoogtes bo seespieël. Klink amper of die toordokters wat Soccer City met allerlei rituele gaan reinig het, ook iets met die bal aangevang het. Dit is dus heel waarskynlik die tokkelossie wat maak dat daai bal nou so 'n wil van sy eie het. So benoud is die spanne hieroor, 'n hele paar het nou al aansoek gedoen dat die toernooi liefs met 'n rugbybal gespeel word. Hulle meen die rugbybal se manewales is minder onvoorspelbaar. By voorbaat het Brasilië en Spanje al op Morné Steyn begin bie. Morné is immers beskikbaar, aangesien hy nie soos sy naamgenoot. Frans Steyn, 'n "uitnodiging" gekry het om vir die Bokke se B-span teen Wallis te speel nie. Ag ja, en kyk 'n mens selfs na die Bokke se B-span, dan bloei 'n mens se hart so oor die spelers wat die Vrystaat vir ander bonde grootmaak. Ruan op losskakel, Meyer Bosman op die bank...Die dag wat die rugbybase darem 'n kwotastelsel op rugby van toepassing maak – dat die helfte van die spelers die een of ander band (behalwe 'n tjekboek) met die bond moet hê, speel die Sharks sowaar saam met die B-bonde. Van die sokker gepraat. Anders as wat baie mense vrees sal mense nie na die toernooi oor dienslewering kan kla nie. Volgens Zuma se persoonlike dolosgooier is dit omdat daar dan nie meer dienste sal wees om oor te kla nie. Soos 'n moedelose boer uit die Molopo aan kongresgangers gevra het: "Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?" Sy antwoord? Teerpaaie. Hoekom Lekota, self 'n bedrewe hand met die gaan vang van voorvadergeeste in buurlande om na Vryheidspark te neem, 'n hofinterdik teen Shilowa gaan kry het, is nie duidelik nie. Sou dit nie doeltreffender gewees het om bloot die tokkelossie op Shilowa los te laat nie? Van 'n appèl teen 'n molesmakende tokkelossie het ek nog nooit gehoor nie. Volgens eerw. Meshoe van die ACDP hang sake natuurlik af van of dit nou "verantwoordelike" voorvaders is of nie. Die verantwoordelike soort, so beduie

die eerwaarde, sal nie mense wat weens swak dienslewering uit die ANC dros, soek en siek maak nie.

Blik Oor oor Nederlandse reisadvies
Ek lees in die Nederlandse pers dat die Nederlanders se Departement van Buitelandse Sake Woensdag 'n internet- en iPhonediens in diens stel waar voornemende reisigers die departement se amptelike mening kan bekom oor hoe veilig dit is om na die buiteland te reis. Op die internet tik die voornemende reisiger bloot die land wat hy wil besoek in die ruimte, en siedaar, die Departement se eie veiligheidsrisiko-ontleding word voorgehou. Suid-Afrika moet skynbaar tot Woensdag wag om te sien hoe gevaarlik hy deur 'n Kaasbril lyk. Met 'n hele paar Nederlandse burgers die afgelope aantal jare in Suid-Afrika aangeval, en onder meer 'n bejaarde dame in Witbank vermoor, sal die gasheerland vir vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi seker nou nie heel bo-aan die lys van veilige lande pryk nie. Of dit bloot 'n misdaadveiligheidsrisiko behels, is nie duidelik nie. Ek het dus my bedenkinge of die Nederlanders regtig sal weet hoe gevaarlik dit vir hulle kan wees om te kom sokker kyk. Uit die berig kan ek nie agterkom of Nederlanders ook te wete sal kom hoe gevaarlik dit is om in watter staatshospitaal hier te beland nie. Of wat die kanse is dat 'n mens met toerbus en al in 'n slaggat kan verdwyn nie. Of dat Eskom die krag van die munisipaliteit waar mens oornag kan afskakel en noodsaaklike medisyne nie koud gehou sal kan word nie. Of die advies ook advies gaan insluit oor hoe groot 'n mens se strikkiegriepkanse is om by die verskillende lande se dames van die nag aan te doen, is ook nie duidelik nie. Ook nie of dit advies gee oor mense se kanse wat dit waag om 'n rofieraaid in 'n minibustaksie te onderneem nie. Ek bedoel, vir 'n Nederlander is dit half riskant om hier sy eie taal te gooi. Hy kan byvoorbeeld 'n preek by 'n sieletiffie op die lyf loop deur te meld hoe fraai die kat is wat by die deur instap – dis nou in Nederlands. Hy kan dalk deur sy gasheer- en –vrou in die kooi geprop word as hy meld hoe vaak (bedoelende dikwels) dit hier lawaaierig raak. En as mens jou Nederlandse gas vir 'n potjie tennis nooi, wees tog versigtig om vir hom te sê hy kan kies tussen die rakette. Want vir Nederlanders is raketten die goed waarmee die Israeli's en Palestyne mekaar bestook. Dit kan dalk net nodig wees om hom hierna onder die bed te gaan uitsleep.

Nou die dag lees ek van 'n nagemaakte mastodon – 'n soort oerolifant wat in 'n natuurtuin gemaak staan is. 'n Mens kan, skryf die koerant, agterkom dis nagemaak deur die dierasie met die hand op die k*nt te klop. Ek het nie 'n benul wat die koerant hiermee bedoel het nie, maar wat ek wel deeglik weet, is dat 'n Nederlander wat hier vir sy gasheer sê hy het sy gasvrou 'n kloppie daar gegee, in een van die berugte hospitale gaan beland. Dít is hoekom ek sê ek weet nie of daai internetdiens die ding gaan doen nie.

Herrie se kerrie: Outisme en om te kan bid
Herrie lees van ds. Dawie Botes wat so met veral die jong mense van Bethlehem se bidvermoë beïndruk is. Ja, Herrie, self maar ‘n behoudende susterkerklidmaat, is saam bly as ‘n dominee van ‘n susterkerk redes kry om begeesterd te word. Maar Herrie dink terselfdertyd dis maar goed daar word na susterkerke verwys, want enigeen wat al op ‘n kerkraad van ‘n susterkerk was, weet daar is min plekke waar broedertwiste lekkerder kan broei en uitbars. Om na broederkerke te verwys het sou heel ‘n ander betekenis gehad het. Selfs Pa-Jan, wat nie eens sommer geïrriteerd met ‘n brommer in ‘n lampskerm geraak het nie, het eendag opgespring en die eerwaarde voorsitter gevra om tog ‘n ander broeder te vra om nie so trompie in die vergadering te sit en speel nie. Dié broeder se trompie synde ‘n pen se “armpie” wat hy met sy tande weg van die pen se “lyf” getrek, en met ‘n trillende geluid laat los, en in sy mondholte laat resoneer het. Aan die gelag was dit duidelik dat die ander broeders – ja, destyds nog net broeders selfs buite die Dopperkerk – ook al ongediend met dié vermaak was. Die skuldige was natuurlik willebooslik kwaad vir Pa-Jan. Maar dis nou in April outismemaand, en Herrie wil graag ‘n ietsie deel oor outisme en gebed. Aan die een kant, ouers, familie, vriende ...almal wat gereeld bid vir die outistiese kinders. Baie, baie dankie. As die kind so min kommunikasie het, is dit moeilik om vir hom of haar godsdiens te leer. Klein Herrie, sommer kleintyd, het gereeld aangedring daarop om die tafelgebed te doen. Dis ‘n gemompel – want hy kon destyds nog baie minder as nou praat – met so af en toe iets verstaanbaar tussenin. Dis nou sy helde en strokieskarakters vir wie gebid word. Soos Spiderman wat nie oorgeslaan word nie. Dominee mag dalk frons oor daar net so gereeld vir Aladdin se genie gebid is, maar die Here sal verstaan. Uiteindelik word die gebed met nadruk met “Amie” afgesluit.

Al is outistiese kinders gewoonlik die uiterste eksponent van vloermoere, is daar bitter weinig onder hulle met misdadige neigings. Trouens, die meeste gevalle binne die baie wye outistiese spektrum het so baie met hemelkinders gemeen, Herrie meen hul paadjie hemel toe is ook geteer. Al bestaan hul gebed ook net uit “Liewe Jesus, Amie.” Want sonder om van vuur en swael en die ewige verdoemenis te verstaan, sal hulle gewoonlik baie mooi geaardhede hê. Klein Herrie, nou al 17 en los by pa en ma verbygegroei, is baie gesteld op kerk toe gaan. Ja, by ‘n vorige kerkgebou het dit gelol, want daar het duiwe in die dak nes geskrop, en veral sekere tye van die jaar, as die mannetjiesduiwe se oë so blink, is daar gekoer vir die aardigheid. Soos baie outistiese kinders hoor Klein Herrie klanke baie anders as ander mense, en dit het hom net so tot raserny gedryf soos ‘n stofsuier vir Herrie tot raserny dryf. Ja, geluide kan misleidend wees. Destyds, met olie Noag en die ark, is die diere wat so twee-twee ingegaan het streng die selibaatskap opgelê. Toe die katte afstap, is daar egter ‘n string kleintjies. Toe Noag verbaas wil weet hoe dan nou, sê die mannetjie: “Nee, dit was toe julle gedink het ons baklei.”

Herrie se kerrie: Wintersadvies
Dit is weer winter. Veral in die Oos-Vrystaat waar dit nie veel help om twee safariepakke oor mekaar aan te trek as 'n man in die nag gaan springhase jag nie. Trouens, Herrie kon nog nooit dik genoeg aangetrek kry om in die winter te gaan springhaas jag nie. Nie eens die keer toe Herrie so dik aangetrek het dat, toe hy oor 'n kontoerwal gaan foeter het, hy soos 'n rubberbal bly hop het nie. Winter in die Vrystaat en Sidderland beteken ook dat 'n mens snags plan moet maak met die waterpype. Herrie het ook, na skade, vir die pyp bokant die kombuis wat gereeld begin groet het, 'n spesiale geïnsuleerde baadjie wat deesdae te koop is, aangetrek. Maar wat, kort hierna was daai pyp weer tot hoe laat toegevries. Dus is dit maar weer al die soort planne, soos om saans net voor inkruip die warm water 'n slag te laat deurloop, en dan die kraan effe te laat drup. Word 'n man snags om die een of ander rede wakker (soos Pumba wat 'n kat iewers hoor kattemaai het en verwoed aan blaffe gaan), gaan draai weer die warm kraan oop, en laat dit weer drup. En vroeg die oggend moet die eerste een op maar weer die kraan laat loop. Dis die teorie. Die praktyk behels om almal in die huis se samewerking te kry. Dit help nie om die heel somer vir die huismense te preek om die krane behoorlik toe te draai, en dan in die winter onaangekondig self 'n kraan te laat drup nie.

Herrie was met die eerste koue houtpopgerus die kraan drup. Die volgende oggend het iemand daai kraan iewers deur die nag mooi styf toegedraai gehad. Een van Groot Herrie se landboudosente is juis onpopulêr in sy huis. Plaaskind gewees, en as hy 'n kraan toegedraai het, kry niemand in die huis dit weer oop nie. En dan het hy nie eens probeer snaaks wees nie. Deesdae moet 'n man juis versigtig wees. Met die kwaliteit bouwerk wat mens deesdae beleef, is dit nie snaaks om as 'n man 'n kraan wat vassit, losdraai die wasbak en pyp uit die muur te draai nie. Dan het daai *&^% pyp gewoonlik ook binne of teenaan die muur afgebreek. Herrie het self 'n loodgieterskursus agter die blad, maar daar het hulle die studente nie geleer waarom die toegevriesde pyp gewoonlik Sondae bars as 'n mens in die kerk is nie. Deesdae is dit minder van 'n krisis, want 'n man kan Sondae by allerhande plekke pype en laste gekoop kry. Maar vroeër dae was dit 'n krisis as 'n mens nie "spaaronderdele" tuis gehad het nie. Of die gereedskap voete gekry het. Met kinders in die huis is gereedskap mos nooit gereed nie, dis wegskap. En as jou pyp gebars het, kan jy maar weet daar is baie ander in dieselfde bootjie en vat dit tyd vir die loodgieters om by jou uit te kom. G'n wonder nie, toe 'n dokter een nag laat die loodgieter bel en sê hy het 'n krisis met 'n gebarste pyp, die loodgieter vir die dokter sê: "Gee hom twee Disprins en hou hom stil. As hy môre nog probleme lewer, bel my weer." * Herrie lees dat Vrystaat onlangs 35 jaar oud geword het. Dit was vir die Herries 'n voorreg om vir 'n hele klompie jare deel hiervan te kon wees. Die oudste Herrie se kerrie wat Herrie op die argief kon opspoor was 1 April 2003. Klaarblyklik is die rubriek egter nie op Aprilgekdag van daardie jaar gebore nie, aangesien daar in die betrokke uitgawe na voriges verwys word. Herrie bedank graag Vrystaat se lesers – vir iemand wat normaalweg sy pen oor harde aktualiteitsonderwerpe aan die pen slaan, is die uitlaatklep wat Herrie se kerrie gebied het baie belangrik.

Herrie se kerrie: Juffrou de Kock die geheime wapen teen swak OG-verslae
Herrie lees Vrystaat se berig oor die Ouditeur-generaal se verslag oor Dihlabeng se sake. Twee hoofpynpille en ‘n dosis Eno’s later is Herrie naastenby genoegsaam herstel om ‘n paar waardevolle voorstelle te doen. Herrie dink die spulletjie moet terug skool toe gaan. Nee, nie enige skool nie, en nie enige juffrou nie. Nee, sit hulle in een van daai skole teen die rante met ‘n kwaai skoolhoof, en gee vir Juffrou de Kock net volmag en ‘n lat, en Herrie meen volgende jaar verbeter

Dihlabeng se verslag van die tweede laagste moontlike gradering na die heel boonste. Maar Herrie het ‘n spesmaas Juffrou de Kock is intussen seker al vir hoër diens opgeroep, want toe Herrie se pad met haar pad gekruis het – gekortsluit het is dalk ‘n beter uitdrukking – had Herrie se ouderdom skaars dubbelsyfers gehaal. Intussen staan Herrie al aan die regte kant van ‘n halfeeu. Of Juffrou de Kock met vandag se beperkings net so doeltreffend sou wees as destyds, weet Herrie nou nie. Nie net vreeslik streng nie, maar so sterk soos ...soos...’n Amasone. Sjoe, amper sit Herrie nou sy voet daarin...wou eers “soos ‘n bees” skryf, maar dit klink darem nie baie vroulik nie, en “koei” ...netnou is sy nog op die ondermaanse en dan moet Herrie ligloop. Maar presies hoe sterk, sien die klas die slag toe Vaatjie nie wou bly staan om klaar gelooi te word nie. Toe gryp Juffrou de Kock hom agter die nek en tel hom een hand op dat hy soos ‘n platanna aan ‘n haak blyk hang. En sy het nog haar regterarm los gehad om die looiwerk klaar te maak. Maar hoekom die ouditeur-generaal se verslag Herrie so aan Juffrou de Kock laat terugdink, is die bontpratery van die verantwoordelikes soos dat dit g’n eintlik so sleg is nie, ander doen slegter, en die OG is rasbevooroordeeld en so aan. So in die begin van die jaar probeer van Juffrou de Kock se nuwe rekrute ook daai een. Fout, GROOT fout. Nie dat mens die pikkies eintlik kon verkwalik nie. Hulle kom dan pas van Klaasvakie af, en vir Klaasvakie, die vorige jaar se onnie, kon mens bykans enigiets wysmaak. Na so ‘n eerste vergissing met Juffrou de Kock, dan weet jy dis maar op die tande kners, of jy moet ‘n baie goeie advokaat kry. ‘n Dapper een ook, want met Juffrou de Kock wis mens net nooit. Sy sou heel waarskynlik blitsig tot die gevolgtrekking gekom het die advokaat wil kom stories maak... In kort, as die misipaal nog gedink het om na ‘n sessie met Juffrou de Kock SAMWU en SALGA op haar te sit... Nee, al verskil sou wees dit sou haar net ‘n rukkie langer neem as om haar klas deur te draf. En SAMWU en SALGA sou geweet het waarvan die Bybel skryf in daai deel van die geween en die gekners van tande...

Blik Oor sê oor vervalste geld
Ek het onlangs ‘n ongewone respekte vir vervalste geld gekry. Of liewer, die vervalste geld wat die Nigeriërs in Blikoorland vervaardig.

Dit volg nadat iemand op die boeremark met R200-note betaal het. Daar is redelik gou agtergekom dis vervalste geld. Hoe? Die vervalsers het die fout gemaak om van ‘n ou voorbeeld af te werk wat nog Afrikaans opgehad het. En nee, moenie nou al die geld met Afrikaans op gaan weggooi nie. Daar is nog ouer geld in omloop wat wél Afrikaans op het. Die nuwe R100-note het nie meer Afrikaans op nie. By mies Ghiel se handtekening staan nou net “Governor”, en nie meer “Governor” vir Engels, en daaronder “President” vir Afrikaans nie. Maar, sien ek toe ek ‘n nuwe R100-noot, ‘n ongewone item in die Ore se huishouding, bestudeer, dit het wel twee ander tale op wat glo in daardie tale “Reserwebank” beteken. “K&^%taal” praat ‘n vriend boos in Dozi’s vir wie ek dit wys.” En so breek die dag toe gouer aan waar regte geld minder werd geword het as die vervalste, want laasgenoemde gee darem erkenning aan die skoonste taal. Nou word verneem die boeremark is nie meer op die hoek van Bankovsboulevard en Boerneefstraat nie, maar op die hoek van Bank of Nigeria Boulevard en Boereverneukstraat. So erg gaan dit ‘n mens kan nou maklik kleingeld vir R70-note kry. Gewoonlik word die kleingeld uitgekeer in R30- en R40-note. Of anders gestel: Een Ora is gelykstaande aan ‘n kruiwavrag vol regte R200nota, en 200 Ora is omtrent dubbel die vervalste R200-note werd – mits die vervalste weergawe nog Afrikaans op het. En ek wonder of versamelaars nou weet as hulle Suid-Afrikaanse geld met Afrikaans op kry moet hulle dit maar vashou – dit gaan versamelaarswaarde hê as dit dit nie reeds het nie.

Gebroeders Steyn se monsterskoppe
Kort na Frans Steyn vir sy oorsese klubspan 'n skepskop van sestig meter deur die mikke gejaag het, klits Morné Steyn 'n strafskop van amper net so ver vir die Bulls teen die Crusaders deur die pale. Hierdie Steyns is miskien nie familie van mekaar nie, maar beide is gebore en getoë Vrystaters. Loeriesfontein het miskien sy kwota ysterstutte opgelewer – manne soos James O'Kennedy en nou WP Nel wat vir die Cheetahs uitdraf, terwyl die Oos-Vrystaat skynbaar van dieselfde doepa in sy drinkwater het en stutte soos CJ van der Linde, Jannie du Plessis en Faan Rautenbach opgelewer het. (Mof Myburg het van Senekal gekom – dankie aan Herman le Roux vir hierdie brokkie).

Maar dit lyk asof die Vrystaat iets in die water moet hê wat sy rugbyspelers skop gee. Die lys van manne wat bekendheid met monsterskoppe (van dig by die sestig meter tot selfs verder) deur die pale jaag word net al hoe langer. Die bekendste is moontlik De Wet (Loodvoet) Ras, maar hy is lank nie die enigste nie. As skoolseun het Edrich Krantz in 'n voorwedstryd vir 'n toets die toeskouers vermaak deur teen Wes-Transvaal-skole die een torpedo na die ander deur die pale te jaag. Sy eerste probeerslag – na die gereelde skopper droog gemaak het – was 'n bielie van 67 treë. Saam met Edrich, wat later self 'n Springbok geword het, het Gysie Pienaar en De Wet Ras op die toneel verskyn. Gysie is minder dikwels met die skopwerk toevertrou as Ras, maar as dit by langste skop tussen die twee kom, lê hulle bymekaar. Die langste skop uit hierdie era, in 'n klubwedstryd, behoort egter waarskynlik aan Chris Richter. Later het André (Joeba) Joubert self 'n monsterskop of twee deur die pale gejaag. Eric Herbert wat meestal vir Noord-Vrystaat uitgedraf het maar ook 'n seisoen vir die Vrystaat diens gedoen het, het self 'n bielie of twee gelanseer. Dit was eers weer Generaal De Waal wat weer die verbeelding met kanonskoppe gaande gemaak het, maar De Waal is geen gebore Vrystater nie. Meyer Bosman, wat ook min moeite het om skoppe vanuit sy eie gebied oor te klits, is in Bethlehem gebore. Die Vrystaat het egter nie 'n volkome monopolie oor langafstand-skerpskutters nie. Met die opkoms van De Wet Ras is hy aanvanklik as heelagter ingesluit, maar die Wit Tornado moes met verbystering sien hoe Noord-Transvaal se Chris Luther – wat self uit posisie op vleuel ingesluit is om sy skopstewel in die span te hê - dié dag die werklike grote deur die pale te jaag en die Blikore se destydse Curriebekerdrome verpletter. Die legendariese Don Clarke, heelagter van die All Blacks, het self op Springbokpark in Bloemfontein 'n monster van 'n skop deur die pale gejaag. Hoewel dit deesdae hoofsaaklik losskakels of heelagters is wat die skopwerk pale toe waarneem, was daar 'n rits slotte wat soos John Eales van Australië heel handig was met hul skopvoete. Weens hul grootte het van hierdie slotte self 'n paar monsterskoppe oorgeklits. Jan Tromp se skop van 58 meter vir WesTransvaal teen die All Blacks het die oë laat rek, veral omdat die bal so hoog oor dwarslat geseil het. Frik du Preez het bekendheid verwerf vir sy "gedrop, geplace en gescore." Ander bekende slotte wat ook die bal kon sool dat hy klein word soos dit afsit pale toe was die Springbokke Tiny Naudé en Hennie Bekker. Bekker het self 'n draai deur die Vrystaat gemaak.

WP Nel: Wat is in Loeriesfontein se water?
WP Nel, die jong Cheetahstut wat in een seisoen die verbeelding soos selde aangegryp het, is ‘n boorling van Loeriesfontein in die Noordweste. Nel het nie net in 2009 vernietigend geskrum nie, maar ook gereeld agter die doellyn gaan kuier soos sy drie in die halfeindstryd teen die Sharks getuig. Sy seisoen het ‘n naasbeste opgelewer – toe hy as stut vir die Barbarians teen die All Blacks gekies is. WP is op 30 April 1986 gebore, maar sy hoërskoolopleiding in Worcester voltooi, en vir Boland se Onder 18 span gespeel, daarna die WP se Onder 21-span gehaal, en vir die WP Vodacombeker-rugby, en vir Boland Curriebekerrugby gespeel, voor hy in 2009 vir die Cheetahs op die toneel gebars het. Hy het die Curriebekerspan in 2009 vanuit die Vodacomreeks gehaal, en nog nie Super 14rugby gespeel nie. WP is egter nie die enigste ysterman wat van Loersiesfontein kom nie. Nog ‘n legendariese stut wat uit dié geweste kom, is James O’Kennedy. Ook hy het vir die Boland gespeel, en die skrum met die ewe bekende Dawid de Villiers geanker het. In 1969 het die Boland, met ander bekendes soos die kaptein Dawie de Villiers, Mike Jennings en Pietman Basson in die Curriebekerhalfeindstryd teen die WP gespeel. Dié WP-span was amper ‘n volwaardige Springbokspan met spelers soos HO de Villiers, Jannie Engelbrecht, Mike Lawless, Eben Olivier, Andy van der Watt, Jannie Barnard, Jan Boland Coetzee, André de Wet, Wouter Hugo, Charlie Cockrell en Tiny Neethling, wat die kaptein was. Dié span was nie ‘n eendag-somerspan nie, en in die laat jare sestigs is ‘n slag gelykop teen Noord-Transvaal, met spelers soos Frik du Preez in sy geledere, gespeel. Op die internet skryf iemand dat die O’Kennedy’s van Loeriesfontein net so taai was soos die Etsebeth’s van Epping/Vasco. Om een van hulle platgemoker te kry het ‘n man ‘n Chev se domkrag nodig gehad - nie ‘n pieperige Datsun-domkrag nie. Dit is egter nie net Loeriesfontein wat ystermanne oplewer nie. Uit die Noordweste het nog legendariese ysters gekom soos Herklaas Engelbrecht, Bert Young en Kakie Goosen. Daar moet skynbaar ook iets in die Oos-Vrystaat se water wees. Onder die bekende stutte tel manne soos Jannie du Plessis, CJ van der Linde en Faan Rautenbach. As kragman staan Bismarck du Plessis nie veel vir boet Jannie terug nie, terwyl die Cheetahflank, Hendro Scholtz, die Cheetahs se sterkste speler tot verhouding van sy gewig is. Frans Viljoen, wat nou as losvoorspeler die pap dik vir die Cheetahs aanmaak, kom soos Frans Steyn, van Ficksburg af.

Ook Gerrie Britz, wat al die Springboktrui oor sy kop getrek het, is ‘n gebore OosVrystater. Intussen, so lyk dit, het die Cheetahs met WP Nel, Coenie Oosthuizen en Wian du Preez weer ‘n stutfaktor soos min. Boonop het die Cheetahs skitterende skrumdokters soos Os du Rand byderhand, en vir die Super 14 kan nog ysters soos Albertus Buckle uit Griekwas ingespan word. Die Cheetahs sal nie weer die fout maak om sy buurman vlak te kyk wanneer na bruikbare Super 14-spelers gesoek word. Wanneer Nel en Oosthuizen saamspan sug die opponente nie net in die skrums nie, die twee baljaar die veld word soos die dae toe die Wit Tornado vir Barabas Venter en Bees Steyn gelyk op die veld gehad het.

Iets fassinerends aan losskakels
Ek lees Herman le Roux se storie oor "Andries", die tramp en gewese lang, lenige losskakel. En ek wonder: Is dit nie dalk dieselfde geval wat ek ken nie. Het juis 'n jaar of twee gelede gehoor die persoon wat ek ken het 'n boemelaar geword - en die omgewing pas ook. Maar om my "Andries" se verhaal te vertel, sal beteken ek moet Herman se storie omtrent oorvertel. Dus gaan maak my gedagtes ander draaie, oor losskakels oor die algemeen. Losskakels het my nog altyd gefassineer, en hoewel dit die een van die dertien posisies is waarin ek "verteenwoordigende" rugby gespeel het, is dit stellig die posisie waarin ek die minste kere die trui oor die kop getrek het. Dit werk so - ek het rugby vir die lekkerte gespeel en dus beteken "verteenwoordigend" 'n gejol in min of meer die laagste spanne moontlik. Losskakel, dink ek, kan 'n mens nie vir die lekkerte speel nie. Die verantwoordelikheid is net te groot. (Die twee posisies wat ek nooit gespeel het nie was skrumskakel en vaskopstut). Ek het in 'n omgewing, Stellenbosch, grootgeword waar skoppende losskakels as swak losskakels beskou is, en word Springbokspanne gekies, was ons eenstemmig dat Jannie Barnard die Springbokke se nommer tien moet wees. Van die dinge agter die skerms wis ons niks, en by terugskoue, kan ek nie onthou of Jannie eers regtig toe gespeel het nie. Slag om slag is Piet Visagie gekies. Maar toe sterf losskakelspel onder ons jongklomp omtrent uit. Die WP se losskakel, Mike Lawless, was nou nie juis ons idee van iemand wat WP se giftige agterlyn aan die gang kon stook nie. Aan die buitekant was immers manne soos Eben Olivier, André Walters, Nelson Babrow en dan nog op die punte manne soos Gert Muller, Andy van der Walt en Jannie Engelbrecht.

Toe gebeur weer iets. 'n Matiespan speel teen 'n gekombineerde res van die WP en Bolandspan. Ons gaan kyk, want Jan Boland Coetzee gaan teen Rooies van Wyk te staan kom. Van daardie tweestryd onthou ek naastenby niks. Ek onthou die losskakel van Maties. Dawie Snyman, sê ek rustyd vir my pa, gaan Springbok word voor die WP-keurders vir Mike Lawless pos. Al wat Dawie dié dag "verkeerd" gedoen het was 'n aanslaan volgens destydse reëls, 'n vervatslag aan die bal. Hy het ook 'n skepskop of wat nie heeltemal raakgekorrel nie, maar wat my bygebly het is dat daardie balle gelanseer is, en agter oor Coetzenburg se muur getrek het. Een keer het die bal nat teruggekom, duidelik uit die Eersterivier gevis. En Dok Danie Craven het skynbaar sy ding gedoen. Toe die Springbokspan Australië toe aangekondig is, was Dawie in. Maar Piet Visagie ook , en Dawie moes tweede viool speel - naderhand selfs vleuel gekies toe hy nie meer weggelaat kon word nie, waar Piet sy sit gesit het. Woensdagwedstryde, met Dawie op losskakel, druk die Springbokke drieë, en Saterdae wen die Springbokke met skoppe. Uiteindelik is Dawie heelagter toe. Maar met sy terugkeer uit Australië was hy darem 'n ruk die WP se losskakel. En toe breek die dag aan dat Piet sy swanesang sing. Griekwas, sy bond, speel teen Suidwes en is besig om 'n loesing op die lyf te loop. Toe breek Piet sy been kort voor die einde, en omdat reserwes destyds nog nie beseerde spelers kon vervang nie, maak Griekwas die wedstryd met 14 man klaar en met die vleuel, Koos Waldeck op losskakel. Soos ek onthou het Koos net twee keer die bal kry. Die een was 'n breekslag en drie, en die ander 'n dwarsskop en drie, en Griekwas wen die wedstryd - in my destydse jeugdige gemoed 'n onweerlegbare bewys dat 'n losskakel wat kan hardloop beter is as 'n statiese, skoppende losskakel. As dit kon, sou ek graag Naas Botha nie wou noem nie. Genoeg om te sê, as ek een van die "I love Jannie Els"-T-hemde kon te koop kry, het ek een gekoop. Maar in ons familie was daar 'n groot Naas-aanhanger. Ons self het toe al in die Vrystaat gewoon, en my ouma Toerien van Stellenbosch was die Naas-aanhanger. Die rede was taamlik voor die hand liggend - sy was 'n nooi Botha, en geen Botha kon nooit niks verkeerd doen nie. Kort voor haar dood was sy darem vies vir PW en Pik wat sy geoordeel het die land weggegee het. Maar Naas het 'n held gebly. In Stellenbosch was sy taamlik geïsoleerd wat dié siening betref, en het sy oral, by die brugklub, by die Susters, by die Volkspele waar sy die klavier gespeel het, in woordestryde betrokke geraak. "Dis net oor Naas vir Transvaal speel dat julle so teen hom is," was haar standaard-verweer.

Dat sy male en male sonder tal reggehelp is dat Naas NIE vir Transvaal gespeel het nie, het nooit 'n verskil gemaak nie. Sy is graf toe in die geloof dat mense so lelik met Naas was omdat hy vir Transvaal gespeel het. Na 'n paar jaar in ballingskap (Pretoria) is ek weer terug in die Vrystaat en val by Leon Botha in om weer lewe in my getaande landloop-"loopbaan" te probeer blaas. Terwyl ons om- en om Tempe se veld hardloop, speel twee kompanies teen mekaar - dis nou rugby. En daar val my oog op 'n lang losskakel. Nie lenig nie, maar taamlik stewig gebou. Wil hy die lyn breek, breek hy. Gee hy aan, is dit suiwer. Wil hy skop, skop hy op die grassprietjie waarvoor hy mik, nie die een langsaan nie. Maak nie saak watter voorspeler om 'n vaste faset skil en op hom afpeil nie, hy dop hom sonder seremonie om. By geleentheid trek die bal van die skrumskakel na dié speler toe die fluitjie blaas. Die losskakel vang die bal, en kyk na die skeidsregter oor wat nou verkeerd sou wees. Dis toe dat een van die stutte besluit dis nou sy kans, en hy storm op die losskakel af wat hom sien kom nie. Hy duik in die verbaasde losskakel vas, wat die stormende gevaar op die laaste oomblik gewaar het. Die stut slaan soos 'n os neer, en moet noodhulp kry, terwyl die losskakel skaars gewieg het. Dit was juis 'n era toe Vrystaat 'n nuwe losskakel gesoek het. Hier was duidelik 'n antwoord, maar daar is geen Dok Craven langs die veld wat talent raakgesien en gaan vertel het nie.

Herrie se kerrie: O-VS lewer beste rugbymanne
DIE Oos-Vrystaatse rugbybond mag dalk nie meer bestaan nie, maar steeds lewer dié landstreek toprugbyspelers op. Sterkes dikwels. Herrie is baie bly dat Jannie du Plessis – nog ’n stut uit die Oos-Vrystaat – nou na die Springbokkamp genooi is. Jannie se broer, Bismarck, speel nou vir die Haaie, en is self nie een wat op die veld geboelie word nie. Hul pa, Francois, was op sy dag self ’n kranige rugbyspeler wat die Oos-Vrystaat van langs die skrum aangevoer het. Nog ’n blikoor van die Oos-Vrystaat het “papiere” om te wys hy is sterk. Die Cheetah-flank Hendro Scholtz is die speler wat die swaarste massa in borsopstote gelig kry. In die geselskap van manne soos Os en Barend en so aan is dit nogal iets wat gedoen moet word. Moet iets wees wat in die water voorkom, so met die grootwordslag. Want as Herrie aan Oos-Vrystaatse Springbokke dink, dan sien Herrie meestal in sy geestesoog ’n hand vol stutte. Maar darem nie net stutte nie. Gerrie Britz het weliswaar sy Springbok-kleure as slot verdien, maar Herrie glo steeds, soos een van die Vrystaat se beste

rugbybreine, Stephan Cloete, dat Gerrie op slot “gemors” word. Hy is eintlik ’n flank. Vra maar enige agterspeler wat hierdie lenige blikoor probeer vang het as hy een van sy kenmerkende langafstanddrieë gaan druk. Selfs Klippies Kritzinger het in sy jonkweesdae ’n draai deur die Oos-Vrystaat kom maak. Oom Dok (Danie Craven) het ook sy rugby in die Oos-Vrystaat kom speel en hoewel meestal skrumskakel, was hy nie ’n softy nie. Behalwe Gerrie Sonnekus en Dok, watter ander Springbok-skrumskakel het ook die groen en goud vir agtsteman oor die kop getrek? Grootherrie se oupagrootjie, Oupa Nic van der Merwe wat buite Slabberts geboer het, was self ’n eenmanrugbyspan. Eers nadat ’n trekker op hom geval en die manne gesukkel het om dit van hom af te tel, was hy nie meer die groot toring van krag nie. ’n De Necker-voorgeslag van Herrie het, toe ’n boer ’n kampdraad op Platberg by Harrismith span en dit andersins ’n ompad kroeg toe sou veroorsaak, bloot sy perd oor die draad getel. Die “toemaak” van bonde soos die Oos-Vrystaat, Noordoos-Kaap, NoordwesKaap en die suigkrag na sterker (lees ryker) bonde, het ongetwyfeld ons land van kleurvolle hardebaarde gestroop. Herrie se geslag sal manne onthou soos Herklaas Engelbrecht, Kakie Goosen, Saag Jonker (jare lank agtsteman, wat sy laaste rugby op senter gaan speel het), Bert Young, Jan Tromp (die All Blacks se oë het piering gestaan toe hierdie slot die bal van diep in sy eie halfgebied hoog deur die mikke lanseer), Dawid van der Merwe, James O’Kennedy en Bokkie Gerber. Selfs destyds het die res van die land ook maar net van hulle bewus geword omdat hulle besoekende All Black-spanne harde bene laat kou het. Herrie se teorie is dat die baie kragmanne uit die Oos-Vrystaat iets met daai olie in die rotse in die Oos-Vrystaat te make het (’n storie vir volgende week). Die manne word as’t ware met die tier in die watertenk groot.

Lewer ook helde op
’n MENS se hart bloei vir die Oos-Vrystaat oor die rugby. Jare gelede het die Boland twee vreeslike stutte, Dawid van der Merwe en James O’Kennedy, gehad. Dié twee het die besoekende All Blacks tot met rustyd in toom gehou, maar toe kon die twee manne darem nie meer al die werk self doen nie. Herrie wil nou nie voorgee dat hy alles van die Oos-Vrystaatse rugbyspelers weet wat elders in die land speel nie, maar Herrie weet dit eindig nie by twee stutte, Jannie du Plessis en Faan Rautenbach, nie. Jannie maak nou vir homself naam en het sy kant gebring om die Vrystaat in die eindstryd in te kry. Nog Oos-Vrystaters wat die ding doen, is Gerrie Britz, nou slot van die WP, en Hendro Scholtz, die man met soveel krag in sy arms. As hy vir die bôl in ’n

losskrum sê kom, dan kom daai bôl. Dok Craven het self sy rugbytoks in die Oos-Vrystaat leer vasmaak. Platteland beteken nie daar is nie rugby-ysters nie. Wie sal sommer gou vergeet van manne soos Kakie Goosen, Saag Jonker, Herklaas Engelbrecht, Bokkie Gerber, Bert Young en vele meer. Van die prima donna-spanne van oorsee wat so lekkerbek op die sagte velde speel, kan ook hul sterre dank hulle het die ervaring misgeloop om agter die bôlle aan te hardloop wat Eric Herbert so lekker op harde velde, soos Bethlehem se Goblepark, kon laat rol en rol en rol. Afstande maak dit moeilik om oral by te kom, soos by Griekwas, waar die verste suidelike punt en die verste noordelike punt omtrent duisend kilometer van mekaar geleë is. So gebeur dit by geleentheid dat net twee spelers van ’n span vir ’n wedstryd teen ’n besoekende span opdaag. Dié twee reken hulle is mans genoeg, en dit blyk ook die geval te wees. Sommer gou is die twee 53-0 voor, toe die een vir sy maat sê hy het iets verkeerds geëet, hy moet gou afgaan. Dis reg, sê sy maat, hy sal die fort hou.Maar toe die man met die maagmoeilikheid terug op die veld kom, sien hy die telling is 53-3.“Wat het gebeur?” wil hy vies weet. “Weet nie,” sê die maat. “Ek moes ook gou afgaan.” Herrie se kerrie: Humorsin Herrie, synde ‘n man wat maar erg geneig is om op die donker kant van ‘n silwer randjie se wolk te fokus, het die afgelope week agtergekom hy is nie alleen nie. Toegegee, rede vir swaarmoedigheid was daar wel – soos die moord op Eugene Terre’Blanche, Julius Malema se gebruiklike bekkigheid, betogings teen munisipale “dienslewering” waartydens iemand boonop deur die polisie doodgeskiet is ... Gelukkig was daar die koel koppe ook. Teen hierdie agtergrond was Herrie geneig om sommer by voorbaat die teerkwas te verwag toe Wits se geleerdes die ontdekking van ‘n moontlike oeroumagrootjie en jongeling aankondig, Australopithecus sediba, of te wel die suidelike fonteinmens. En dis net ‘n tydelike naam, die geleerdes wag vir voorstelle vir ‘n permanente naam. En dis toe Herrie op die internet kommentaar begin lees dat Herrie twee dinge agterkom: Soos Herrie verwag het word die teerkwas uitgehaal, soos die jong aarde kreasioniste wat lostrek oor die bedrog van die geleerdes, want dié oergedoente kan g’n amper twee miljoen jaar oud wees nie, want die aarde is mos maar so 6 000 jaar oud. Dis egter by die “voorgestelde” name wat ‘n mens kan sien dat humor by ons mense nooit ver van die oppervlak lê nie. ‘n Gewilde “keuse” is ‘n jong,

losbekkige politikus. Nie omdat gereken word die sediba was lawaaierig of opruierig nie, maar omdat die sediba se breingrootte maar ongeveer ‘n kwart van dié van die moderne mens was. Nog ‘n “gewilde” keuse is dié van ‘n ander politikus omdat sediba se beenstruktuur wys dat hierdie oergedoentes vreeslik kon rondloop. Al wat nie klop nie, is dat dit ten spyte van die rondlopery uitgesterf het. Die moderne nasaat se voortbestaan word immers nie bedreig nie. Danksy die rondlopery. Herrie sal graag sediba na een van die internet-kommentators, ene Alkie, wil vernoem. Alkie reken die wetenskaplikes lieg iets vreesliks, want die wetenskaplikes het lankal bevind niks op aarde is ouer as ongeveer 7 000 jaar oud nie, en wanneer gaan die wetenskaplikes ophou om die bedrog dat die aarde veel ouer is te verkondig? Australopithecus alkiens sal baie toepaslik wees, want immers was dié oermensaap se breingrootte net ‘n kwart van dié van die moderne mens.

Herrie se kerrie: Die (benoude) gladdebek
Toe die jonge Freek Tromp die dag 17 word en vir ‘n leerlingrybewys kwalifiseer, was hy al ‘n ou hand agter die stuur. Op Pa Barnie se plaas is alles wat grondlangs hou, al behoorlik onder die knie gekry. Van die trekkers, pa se bakkie, die lorrie, ‘n veldmotorfiets en ou Poon. Dis net Vaaltyn die donkie en die kallers wat nog die jongeling se tier was. Die kallers met te veel bokspringe, en Vaaltyn wat eenvoudig afsit na die naaste doringdraad en sy ruiter letterlik afskuur. ‘n Donkie is mos ‘n wonderlike ding. Maar toe breek Freek se 17de verjaarsdag aan, en kort hierna het hy sy leerlingrybewys met die derde probeerslag geslaag, en dié waai hy triomfantlik omhoog. Hiervandaan, as iemand iewers heen moes gaan, en hy soek ‘n chauffeur, dan was Freek op slag by. Hy sal bestuur, dankie. Maar sy chauffeurkanse was te min na sy smaak. Een naweek kuier ‘n klasmaat, Frans by Freek op die plaas, en die Saterdagaand gaan kuier die ou mense by vriende. Omdat die vriende ook op ‘n plaas bly, word met die bakkie gery. Nie lank na die ou mense weg is nie, begin die versoeking aan Freek vreet. Pa se Merc staan in die motorhuis. Hoe later, hoe harder roep die sleutel van die sleutelhaak in die gang, tot Freek naderhand vir Frans sê: “Kom ons gaan vir ‘n spin.” Sonder ‘n pretbederwerpa langs hom wat keer dat die naald te ver by die spoedbeperking verbygaan, gaan dit te lekker. Die nuwe pad tussen Bethlehem

en Harrismith is plek-plek lekker wyd, en gelyk, en dan word die tekkies behoorlik uitgepak en gaan die naald los by die 200 kilometer per uur verby. Dis egter ook die pad waar Jan Bezuidenhout en sy manne ‘n spoedlokval hou. In die aand is dit maar ‘n vervelige storie, want die motoriste waarsku mekaar na weerskante toe, en omtrent almal ry mooi stigtelik by die padvalke verby. Maar Freek en Frans het by die plaaspad uitgedraai, en toevallig geen kennis gehad van die gevare langs die pad wat lê en wag om hul nette te sprei en die ellendeling te vang nie. Jan kon sy geluk nie glo toe die vlieënde Merc die gatsometer se naald bo 200 kilometer per uur laat vasslaan nie. Die hele aand se wag die moeite werd! Seker nog gesuip ook. Toe Freek bleek geskrik onder Jan sy hand in die glimmende handskoen tot stilstand kom, sê Jan: “Ek wag al die heel aand nét vir jou.” Frans, in die passasiersitplek en self heel deur die wind geskrik, misverstaan Jan se woorde: “Ekskuus oom, maar ons het so vinnig gekom as wat ons kon.” Jan kan sy ore nie glo nie! Hy loer, flits in die hand by Freek verby om te sien wie hom so tart, maar kyk in Frans se benoude gesig vas. “Mannetjies,” sê Jan afgemete. “Draai nou hier om en ry huis toe. Binne die spoedgrens.” Freek laat hom nie twee keer nooi nie. Met die Merc se rooi liggies wat oor ‘n afdraande verdwyn, bars Jan en sy maats dawerend uit van die lag. Die aand was tog die moeite werd.

Herrie se kerrie: Van watter affêre
Laat Herrie sommer met die deur in die huis val – omdat Herrie disleksie het lag Herrie nie sommer vir iemand anders se speling, ekskuus, spelling nie. Maar soms laat iets 'n mens se bloed kook. Terwyl die taalbulle mekaar in Stellenbosch pak oor die toekoms van Afrikaans aan die US, verskyn daar 'n groot advertensie in Rapport om mense aan te moedig om water spaarsamig te gebruik. Omtrent al wat 'n mens positief kan sê, is dat die adverteerders darem Afrikaans probeer pleeg het. Sommer in die aanloop word verkondig dat Suid Afrika (sonder die koppelteken) nie 'n waterryk land is nie, en dat waterbesparings wenke (koppel-"s" se maai) nodig is in en rondom die huis. So word mense gemaan om nie pote (potte?) vol te maak nie. "Lei altyd jou plante gedurende die vroeg in die oggend en in die aand nat, wanneer temprature kooler is," lui die advies. "Dakwater kan ook in tenke gespaar word om jou tuin te water."

Lesers word ook gemaan oor die gevaar van "invallende indringer plante." Dié juweeltjies kom van die "Department of Water Affairs (all English) en daaroor moet 'n mens stellig dankie sê want anders het ons hierdie "advies" seker van die "Department Watter Affêre" gekry. Net 'n rukkie later lees Amanda Olivier RSG se eenuurnuus, en verwys na 'n party wat gaan probeer keer dat die regering afdeling 25, in plaas van artikel 25 van die grondwet verander. Herrie moet seker bly wees "section" is nie sommer met "seksie" vertaal soos wat gewoonlik gebeur nie. Nou is Herrie dubbel so kwaad vir die regering oor sy planne met plase. Hierdie verminking van Afrikaans was nou nie die ergste wat Herrie al te siene gekry het nie. Die Cheetahs se advertensie in 'n dagblad vir seisoenkaartjies het bykans net sulke juweeltjies opgelewer. Onder die juweeltjies in daardie advertensie was dat die seisoenkaartjiehouers ook 'n toets teen "Australia" te siene sou kry. 'n Mens kry eintlik koerante se taalversorgers jammer. As 'n mens byvoorbeeld op die internet sien hoeveel "digterlike vryheid" Afrikaanse skrywers gebruik wanneer dit by spelling kom, is dit nogal 'n riem onder die hart om te sien dat die meeste Afrikaanse koerante nog baie streng met spelling en taalgebruik is. Om dan die koerant te ontsier met meesterstukke soos dié wat van "professionele" instansies verkry is wat dit self ontwerp en opgestel het, is 'n ramp, en 'n lunsriem dwarsdeur die hart. Ai, jare gelede het 'n Engelssprekende kollega van Pa-Jan gesukkel om 'n vaste aanstelling te kry, want elke jaar pluk hy die verpligte Afrikaanse taalvaardigheidseksamen. Op 'n dag kom hy weer moedeloos terug. Nee, hy meen hy het beslis weer gedop want "what do I know about the stomach of a horse." Hy moes oor dié onderwerp 'n opstel in Afrikaans skryf. Pa-Jan gaan kyk self wat staan op die vraestel. Die onderwerp waaroor hy moes skryf was: "Die mag van die pers." Nou ja, Herrie hoop van harte dat Afrikaanse pers genoeg mag sal hê om rug styf te kan maak teen die ontvang van sulke prulwerk. Iewers gaan die "professionele" agentskappe darem 'n kundige Afrikaanssprekende kry wat sal weet hoe on Afrikaans reg te timmer, al kom die Engels, dikwels ook maar beroerd, van water department se skakelaffêre af.

Iets by die koffie?
“Ek sien,” sê oom Brokkie waar ons op die stoep sit en Boeretroos wegslaan, “die Amerikaners het nou nie net ‘n ‘tea party’ nie, hulle het nou ‘n ‘coffee party’ ook.

Oom Brokkie se algemene kennis verstom my. Ek het netnou op die internet eers gesien die “coffee party” het pas gelyktydig op 370 plekke in die VSA en selfs hier en daar oorsee, hul eerste bekers geklink. Op pres. Barack Obama, in teenreaksie op die “tea party” wat nie so lief vir Obama is nie. Maar as ek gedink het ons gaan gesels oor die meer behoudende “tea party” en die meer liberale “coffee party” wat weer Obama se gesondheidsplan uit die dryfsand moet sleep, had ek dit mis. Oom Brokkie het sy stoute skoene aan. “Dink jy nie ons politiek sal ook bietjie minder gespanne wees as ons ook in ‘tea party’s’ organiseer wat veerpyltjies teen die “coffee party’ gaan speel nie?” “Almiskie oom, maar oom weet mos wat vat die manne nou saam met hulle tee?” “Met eisj!” sê ons geyk. “Ja,” sê oom Brokkie. “Die slimste oplossings vir die land se probleme word saans by die Oog uitgedink. Net jammer al wat die manne die volgende dag daarvan oorhet is die vreeslikste hoofpyne.” “Maar watter soort tee of koffie dink oom het die Prez nou die aand gedrink toe hy so saam met die Boere gedinee het?” “Ek dink koffieaan, want die volgende dag kon hy niks onthou van sy onderneming dat hy Julius onder vier oë sou spreek en die kwessie met die ANC se ringkoppe sou opneem nie. Trouens, die ANC trek nou die streep in die grond en sê nou iets soos “julle Boere se moere, hulle gaan daai liedjie aanhou sing, want dis nou deel van hul geskiedenis.” “Maar is die Vlaamse Blok nie oor iets soortgelyks verbied nie?” “Ja, maar hierdie is mos nie Wes-Europa nie.” “Dink oom nie ons moet vir die Prez ‘n paar boksies Oom Tas by die parlement laat aflewer nie?” “Jong, netnou gaan lees sy adviseurs in die geskiedenis op en sien hoe Willem Adriaan vir oom Tas in die Donker Gat laat toesluit het oor hy nie gehou het van wat die oom oor die politiek gesê het nie. Dan kry hy idees, en word ‘n paar mense weer daar toegesluit.” “Seker darem nie vir lank nie. Dan kry ons presidensiële kwytskelding, en intussen kon ons darem ‘n ruk van die dienste wat so agteruitgaan ontsnap – want ek verstaan daar onder is hulle Eskom so ‘n entjie voor.” So kuier ons terwyl ons met Boeretroos en Boerbeskuit ons “koffieparty” hou. Blik Oor

Hulle vlieg so lekker want hulle lieg so lekker...
Blik Oor

Onlangs maak iemand in ‘n kommentaar op ‘n woernaal-artikel die volgende “stelling” : “Hoe weet ‘n mens as ‘n politikus lieg?” Hy antwoord self: “Wanneer sy lippe beweeg.” Oor die jare van my skouerskuurdery met politici het ek dit self menigmaal beleef. Soms het ek die indruk gekry die leuens is kompulsief, ander kere wanneer die spreker tydens ‘n media-onderhoud nie die feite ken nie en in plaas van om te sê hy sal uitvind en terugkom, doodgewoon ongesteurd kluitjies bak. Trouens, selfs die “uitvind en terugkom” kan in kluitjies bak ontaard. Tydens ‘n voorverkiesingstoer (ek meen voor die vorige landswye munisipale verkiesing) het die ANC op ‘n “road show” deur die Vrystaat gegaan en veral groepe boere toegespreek. In die Oos-Vrystaat het die gewone woordvoerders ander verpligtinge gehad, en moes ‘n ander ringkop instaan. Sommer gou het dit geblyk hy het nie ‘n koekieng kloe nie, en neem hy toe die vrae om later terugvoer te gee. Die boere wag steeds, en intussen is van hulle verwag om vir die ANC te stem. Dis egter nie al nie. By geleentheid spreek Eerw. Melkkoe ‘n groep mense in Bloemfontein toe, en ‘n bejaarde dame (toevallig die dogter van ‘n oud-president) vra hoekom die ACXP (onherkenbaar verander) niks oor plaasaanvalle uitreik nie. Soos blits sê Melkkoe maar die ACXP doen, dis net die media wat dit nie plaas nie. Enigeen wat meen ek bak nou kluitjies, kan op die ACXP se webwerf deur sy nuusverklarings blaai. As hulle een kry wat Melkkoei uitgereik het, moet hulle my asseblief laat weet by moegoe@voetsek.co.za Trouens, kort tevore was daar ‘n plaasaanval in Noordwes. Ek het geweet die provinsiale leiers is op pad vir ‘n vergadering met Melkkoe, en sien ‘n kans om dié swye te breek. Ek stel ‘n mediaverklaring inderhaas in Afrikaans en Engels op, en e-pos dit na ‘n provinsiale leier wat nog nie van sy huis af vertrek het nie, met die versoek – om die tafel – kry asb Melkkoe se OK hiervoor. En ek wag en ek wag. Die AXXP stuur niks uit nie. Met terugkeer by die huis laat weet daardie provinsiale leier Melkkoe sê aikôna, elke keer as hy so iets doen sê die ANC hy is ‘n Boeremeeloper. Maar die verklaring kan in die naam van daardie provinsiale leier uitgaan. En het, en het baie mediadekking gekry. Trouens, die ACXP het heelwat mediaverklarings oor plaasaanvalle uitgereik, gewoonlik my handewerk, en deur die provinsiale leiers uitgestuur, en het heelwat mediadekking gekry. Gaan kyk bv op Volksblad, Beeld en Die Burger se argiewe. Hieroor is gereeld aan Melkkoe verslag gedoen.

Daar was ander voorbeelde met ander, soos die dominee wat met sy motorfiets in die riool gegly het, en volgens ‘n provinsiale leier ‘n eis teen die betrokke misipaal sou instel. Toe dit blyk ‘n duimsuigstorie te wees word ek sommer die sondebok gemaak. Hierdie ellelange aanloop bloot om te kom by ‘n paar verwikkelings nou. Seker die eerste is die onderhoud of nie onderhoud nie van Comrade Winnie. Terwyl Winnie ontken het sy het die onderhoud gevoer, plaas die Britse pers ‘n foto van Winnie saam met die artikelskryfster en dié skryfster se Nobelpryswennerman, voor Winnie se huis. Die internetsoektog om te probeer bepaal of die verslaggeefster ‘n gewoonte maak van stories uit haar duim suig, lewer hoofsaaklik berigte op wat haar lofliedere besing, maar ook ander wat beweer dat sy begin lieg die oomblik as sy haar pen aan papier waag. Soos die keer toe die media berig dat Zola Budd (Pieterse) wat R10 000 by die regering gekry het na aanleiding van ‘n belofte van Piet Promises dat die eerste Suid-Afrikaner na daardie toespraak wat ‘n wêreldrekord verbeter so ‘n meevaller gaan kry. G’n niks sprake van nie, en die media het woorde in Piet se mond geplaas. En hier is ‘n kopie van die toespraak – g’n niks g’n so ‘n belofte nie. Toe speel die verslaggewer die bandopname van die toespraak, en daar is die belofte. Terloops, Zola het nié die geldjie gekry nie. En nou die ANC se bontpratery oor Malema se kafpratery. Die Jeugliga gaan so ver om te sê Malema het g’n dié woorde tydens sy onlangse vergadering by Wits gesê nie. SAPA krap nou kop, want die media het berig dis by die UJ gesê, nie Wits nie. Presies wat is nou ontken? Ek kry ‘n vreestoeval, want lyk mos nou kepleet Malema maak soos olie Saddam wat dubbelgangers gehad het om die Irakese nog banger te maak. Ek hoop net elkeen van hulle kry nie blouligbeskerming teen R300 000 per maand nie. Eers haal die media pres. Jacob Zuma wyd aan dat hy sê hy gaan Malema nie aanspreek nie, want dit sou na ‘n teruggryp na apartheid lyk. Daarna sê sy kantoor dat Zuma met in sy gesprek met Afrikanerleiers onderneem het om met Malema te “praat” hieroor. Sal die waarheid asseblief opstaan? (siejy gaan sit Malema!) Dan is daar die apartheidsverwysing. Zuma, as hy na apartheid wil soek kan hy gaan kyk na die SAPD se appèl teen die Arbeidshof-beslissing oor sy toepassing van regstellende aksie. Hy kan gaan kyk na sy minister van samewerkende regering se mees onlangse boeboe. Na hy ‘n rukkie kalm geraak het oor sy aanvanklike boeboe oor die NBU se optrede, gaan haak hy weer af, en dreig om die NBU met hul eie belastingbetalersgeld hof toe te vat.

En sommer so in die beweerde idioom van olie apartheid dreig hy hoe hardhandig die polisie met swart betogers sal werk wie se optrede oor die swak dienslewering die aanbieding van die komende sokkertoernooi wil ontwrig. Klink terme soos die polisie opdrag te gee om die townships af te sper en die skuldiges uit te rook nie half bekend nie? Mnr Zuma, in die apartheidsdae het dit as verswarende omstandighede getel as iemand ‘n misdryf teenoor ‘n persoon van ‘n ander velkleur gepleeg het. Nou mag iemand voor die media by ‘n openbare vergadering sing wit mense moet doodgemaak word. Dan word hy onaantasbaar en word hy ‘n kroonprins. ‘n Voorganger se “kill the Boer, kill the farmer” is beloon deur onder meer ‘n pragstadion na hom te vernoem. Min het verander. Daar is nou waarskynlik meer rassediskriminerende wette op die wetboek as tydens apartheid. En politici bak steeds kluitjies. Al verskil, so lyk dit, is dat hulle gouer uitgevang word as tevore.

Op die bus
Daardie Dinsdagoggend diep in die tweede kwartaal van 1985 sal ek nie maklik vergeet nie. Dié oggend was ek soos gebruiklik een van die eerste passasiers wat op die bus geklim het wat sy roete tussen die plotte deurgevind het om mense wat in die stad werk, by die werk te kry. .............................................. By die stop na ek opgeklim het, klim ‘n hoërskoolseun ook op. Vandag klim twee pikkies in hul laerskooluniforms saam op, wat vreemd is omdat die laerskoolkinders gewoonlik skool toe loop, en die skool ook nie op die busroete is nie. Ek luister dus toe die oudste seun met die busbestuurder praat. “Môre oom, die laerskool het mos gisteraand afgebrand, en nou moet hulle ook voorlopig stad toe gaan.” Uit ‘n afsonderlike banksakkie diep hy die busgeld vir die pikkies op. Heel duidelik het die beheerraad deurnag gewerk om die krisis ten beste die hoof te bied, en soos gewoonlik tot in die fynste detail gesorg dat selfs die kleintjies se busgeld gereed is. Die meeste mense hier op die plotte is brandarm, en om te aanvaar elke huisgesin sal oornag die nodige geldjies, selfs vir busgeld, bymekaar kan maak is baie gevra. Dit word ‘n diep ontroerende ervaring.

By die volgende busstop is daar moeilikheid. Die drietjies wat moet opklim, twee boeties en ‘n sussie, is kaalvoet in hul laerskooluniforms. Hier op die plotte gaan die kleingoed kaalvoet skool toe. Die groter seun het hul busgeld, maar in die stad is skoolskoene verpligtend. Hy skop vas. “Ons hettie soolskoene nie,” hoor ek die stemmetjie van buite kom. Ek staan op, en beduie hulle moet inklim. As dit nodig is, sal ek self met die skoolhoof praat. Soos dit is gaan die kleingoed genoeg getraumatiseer word oor die skoene-ding. Kinders is wreed. Vir die groter seun sê ek: “Skoolgaan is verpligtend, Jy mag hulle nie toegang tot die skool weier nie.” Ook ander mense klim op, en die laerskool se afbrand is ‘n groot besprekingspunt. Die hoërskool is juis ‘n jaar of twee tevore gesluit om ‘n paar onderwysposte in die stad te red wat weens kleiner blanke gesinne in die gedrang begin kom het. Ek kry die pikkies innig jammer. Gisteraand toe hulle kooi toe is, het hulle nog geglo hulle is teen dié tyd vanoggend kaalvoet op pad skool toe. Hul eie skool. ‘n Paar uur later, terwyl hulle geslaap het, was die skool in ligte laaie. By die volgende bushalte is daar weer moeilikheid. Die drie sussies het nie skoolklere aan nie. “Ma het gesê ons kan nie in ons skoolklere na ‘n ander skool gaan nie,” hoor ek die stemmetjie van buite. Die groter knaap met die busgeld kyk nou reguit na my. “Wat moet hy nou doen?” staan oor sy hele gesig geskryf. Ek beduie die kleintjies moet inklim.

Brief van Blik Oor: Zuma se toekenning
Die queen het pres. Jacob Zuma met die "Orde van die Bad" vereer. "Moes dit nie eintlik die 'Orde van die Stort' gewees het nie wil mev. Blik op slag weet. Ja-nee, daarmee kan ek nie méér as saamstem nie. Maar, dink ek, ek is bly die queen het nie die "Orde van die Bad" óf die "Orde van die Stort" aan my toegeken nie. Ek sou dit net dalk as 'n skimp beskou het, veral na siffel ure op 'n vliegtuig. "Ek dink," sê ek na 'n rukkie, "die 'Orde van die Stoetbul' sou meer gepas gewees het. "Ja," sê vroulief wat op 'n plaas grootgeword het, "moes seker 'n Drakensberger wees, want hulle kapasiteit maak dat hulle nie net hul eie troppies 'doen' nie,

maar sommer 'n klomp van die bure se troppe ook. G'n draad hou g'n Drakensberger in nie. Pure swart kallers die wêreld vol." "Dink jy die prez gaan bietjie besienswaardighede besigtig?" vra vroulief. "Ja, ek hoor hy gaan by 'n museum die uitstalling van Koning Henry die 8ste goed bestudeer. Volgens oorlewering is dié koning se rekord nog nie verbeter nie. Dis nou so ver ons weet." "Klink my Zuma is nie baie tevrede met die 'Orde van die Bad' nie." "Hoe so?" "Ek sien hy vis al weer vir nog 'n toekenning by Mugabe. Vertel vir die Britte die sanksies teen Mugabe is nou nie sportmanship nie, what, what." Blik Oor

Herrie se kerrie: Onskuldig in die sop
Herrie is nogal gesteld daarop om die polisiëringsforum-vergaderings by te woon. Dan weet ‘n man nogal wat in die buurt aangaan, en kan ‘n man voorsorg tref. Hier kom dit aan die lig waar word die meeste motors gesteel, en waar word die meeste in huise ingebreek, en so aan. Nou een dag blom die polisie oor die onverwagse sukses. Hulle keer ‘n verdagte een oggend half vier aan wat ‘n hele boks vol motorradio’s by hom het. Iewers is motors van hul radio’s gestroop, meen hulle. Maar nee, seg die man. Hy is eintlik nou die slagoffer van polisie-brutaliteit en vooroordeel. Die polisie kan egter nie sommer sy storie gesluk kry oor hoe dit gekom het dat dié nagloper nou die trotse, wettige eienaar van ‘n boks vol motorradio’s is nie. Maar hy hou vol – hy het dit uit ‘n vullissak op ‘n sypaadjie gehaal. Vullissakke wat nou oornag op sypaadjies staan is ‘n realiteit vandat die Rosestad Bethlehem se munisipale bestuurder afgerokkel het om dienslewering te verbeter. Die honde wat snags sakke stukkend skeur stem saam die diens aan hulle het inderdaad verbeter. So gebeur dit dat die polisie die oggend vieruur ‘n vriendin van mev. Herrie en haar gesin opklop. “Hierdie man vertel die Diannse &^%-storie (na aanleiding van Dianne KohlerBarnard se onparlementêre taal) dat hy ‘n sak met dié boks vol karradio’s op die sypaadjie gekry het,” lig die driftige polisieman die gesin in. Die vrou des huises moet toe, soos dit stel, teenoor haar man, die polisie en die boef bieg dis haar skuld. Sy sit al maande aan manlief om sy rommel in die garage op te ruim, maar hy kom nie daarby uit nie. Toe begin sy maar so elke

week ‘n boks rommel uit die garage laat verdwyn en saam met die vullis verwyder....” Herrie het nou nie verneem wie nou met die boks ou radio’s sit nie. Herrie verneem van die storie toe mev. Herrie verneem of sy nou maar van sy ou weermaguniforms kan ontslae raak. Tot die sakke waarin dit gebêre word, is besig om in te gee. Toe word Herrie se gedagtes sommer verfris. Herrie het met ‘n vorige soortgelyke versoek onderneem om by die SANW uit te vind wat van daai uniforms? En gevergeet. Want sien, aan die regte kant van 50 is dit onwaarskynlik dat Herrie nog opgeroep sal word. Boonop, toe Herrie nog in daardie uniforms gepas het, het Herrie nog skaars meer as ‘n R-1 geweeg, en toe op patrollie gewoonlik maar die Swaarloop of LMG gedra om die verskilletjie uit te kanselleer. Nou weeg Herrie omtrent so veel soos ‘n hele vrag wapens wat op ‘n slag deur die polisie vernietig word, en amper soveel soos die wapens wat die polisie in ‘n jaar verloor. Pure spiere ontwikkel, veral borskasspiere wat van die brute gewig daarvan effe afgesak het. Met beide Groot Herrie en Klein Herrie wat al vergeet los by Herrie verbygegroei het, is daar ook nie eens ‘n kans dat een van hulle enige nut van hierdie klere sal vind nie. Dus wag Herrie nou vir ‘n volgende polisiëringsvergadering waar die polisie trots vertel dat hulle iemand aangekeer het wat vermom soos ‘n soldaat met ‘n sak gesteelde karradio’s betrap is. En raai wat het dié skelm te vertelle...?

Blik Oor: Dianne se gekruide parlementêre taal
Dat politici nie op hul monde geval is nie, is nie ‘n geheim nie. Trouens, die Britse lords het gemeen hulle is sulke ysters as kommunikators dat hulle nie nodig het om kundiges met verkiesingsveldtogte te gebruik nie. Toe doen Margaret Thatcher se Tories dit, en uit die amperse bloute verskyn die ystervrou op die toneel. Nou het die DA se Dianne Kohler-Barnard in dingetjie in die parlement kwytgeraak wat haar vyf dae se skorsing deur haar eie party op die lyf laat loop het, en sy moet nog die parlement vir dié geturksvyde woorde om verskoning vra ook. Oud-Minister Hendrik Schoeman, indertyd Minister van landbou, is volgens oorlewering een nag wakkergebel deur ‘n boer wat kla oor die mieliepryse of iets. Volgens hierdie oorlewering het Hendrik vir die boer in geen onduidelike taal nie laat verstaan hy moet gaan &*&.

Dis reg, dis hoe my minister met my moet praat.” Alles volgens oorlewering. Beloftes maak het ministers ook al reputasies en byname besorg, soos Piet Promises. Maar, so lyk dit ook, is Piet se “rekord” soos wyle Hendrik s’n, lankal verpletter. As hedendaagse “promises” nie donkievye geblyk te gewees het nie, smaak dit my sou daar nie meer ‘n arm mense in Afrika gewees het nie, en sou die strate en paaie al ‘n goudlagie gehad het. Nou het die paaie ‘n skrootlagie soos goed deur die slaggate uit die rygoed uitgeruk word. Politici wat groen blaartjies opsoek, is ook nie iets heeltemal nuuts nie. Maar ook hier, meen ek, is alle rekords ook nou al herskryf. Iemand wat natuurlik vir Dianne lesse sou kon gee oor parlementêre kwinkslae, was Neelsie Langenhoven. Maar ek het net ‘n spesmaas as iemand vandag iets sou herhaal wat Langenhoven volgens oorlewering kwytgeraak het, naamlik daai een dat die helfte van die lede ‘n klomp ape is, sal die poppe veel erger dans as destyds. Volgens oorlewering het Langenhoven daarmee weggekom toe hy die beswaarde agbare lede in sy terugtrekking verseker het die helfte van die lede is nié ‘n spul ape nie. Trouens, ‘n hele rits opmerkings, selfs onskuldig bedoel, sal waarskynlik veel meer as vyf skorsingsdae en ‘n terugtrekking tot gevolg hê. Om so ‘n paar te noem: “Dit lyk of Kaapstad se dieretuin verhuis het.” Of: “Die sirkus is in die stad.” ‘n Opmerking soos: “Die ooievaar sit op die dak,” kan dalk ook groot teenspoed beteken. So fyngevoelig is die mense in die praathuis nou dat gebaretaal onverwags teenspoed gekry het. ‘n ANC-lid het glo vir Zuma se prosessie op pad parlement toe gewuif, maar is gearresteer en van crimen injuria aangekla oor dié vingertaal. Hy het na bewering net met sy middelvinger gewaai. Ja-nee, dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek bedoel, nie lank gelede nie het Johnny de Lange nog ‘n gedoktorde NNP-lid binne die parlement so hard gemoker dat die agbare lid op sy agbare agterent beland het. So hard, hy is heeltemal binne-in die ANC ingemoker is. Ek meen, dié insident sal nou seker maak dat Dianne nou ook ‘n vurige kampvegter vir Afrikaans word. Het sy maar, soos ‘n bekende Afrikaanse tennisspeler vir die skeidsregter in Afrikaans gesê het is ‘n &8&huis, haar ding in Afrikaans gedoen, het sy weggekom daarmee. Hoewel, ek dink daai spesifieke woorde sou die agbare verontregte lid ook verstaan het al was dit in Afrikaans gebesig. Maar niemand sal stry nie. Dainne het as kommunikator soos min ontpop. Net twee woorde en sy het meer aandag op haar gevestig en is ernstiger opgeneem as ‘n prez met twee spietse.

Herrie se kerrie: Bittersoet van plaasskole
Dis ‘n deurmekaarspul met plaasskole in die Vrystaat, en dit lyk nie vir Herrie iemand weet mooi nie. By die plaasskool by oom Wimmie het die amptenary oor die vakansie ‘n brief kom wys die skool gaan sluit, en die werker moes inderhaas plan maak met hul kinders. Toe daag die “tietsjas” in elk geval op maar nie die kinders nie. Want die skool is mos gesluit. Herrie weet al ‘n paar jaar lank die Vrystaatse provinsiale regering wil die plaasskole sluit en met ‘n koshuisstelsel vervang. Herrie geen nou reeds ‘n brief: Nie binne ‘n honderd jaar nie. Maar Herrie is nie baie verbaas dat die goewerment plan probeer maak nie, want bykans tagtig persent van die Vrystaat se ongeveer 2 000 skole is plaasskole, en die grootste gros van hulle is weer eenman, of “one tiechah”-skole. Dis ‘n reuse uitrol om op dié manier skole binne trefafstand van die plaaswerkers se kinders te kry, en selfs soos dit is, moet baie van hierdie kinders steeds lang afstande aflê. Plek-plek is busvervoer tot die geld opraak, en plek-plek is fietse uitgedeel tot hulle gebreek of gesteel is. Tot op ‘n dag, dan moet hulle groot skool toe om ‘n matriek te gaan probeer verwerf, en hier lol dit weer. Privaat loseer het nog op ‘n manier gewerk toe boere ‘n groot del van hul werkers se lone in natura betaal het, d.w.s. meel, melk, vleis en weidingsregte vir beeste, en vele meer. Van die rantsoene is na familie in die dorpe en stede waar die kinders geloseer het. Van die beeste op plase was eintlik die familie se beeste. Stedelinge se beeste, het dr. Andries Lategan (intussen saliger) van die Stedelike Stigting al jare gelede bevind, loop op plase in ‘n radius van tot 300 kilometer om die stad of dorp). Maar toe kom minimum kontantlone, en skielik is dit wat die plaaswerkers vir hul familie in die dorp kon bied, veel minder. Maar selfs voorheen was sommige van die plaaswerkerskinders by hul stedelike verblyf gruwelik uitgebuit, en moes soos slawe werk, en soms selfs prostitusiewerk doen. En heelwat van hierdie kinders het dit gemaak, en sit nou in die Wetgewer of in hoë poste. Nie almal se herinneringe is nostalgies van aard nie. Herrie dink darem nie oom Neelsie is reg wat meen die hele ding is deel van ‘n meesterlike matriek-strategie nie. Oom Neelsie reken die regering het nou al alles geprobeer om die matriek-slaagsyfer beter te kry, soos om die slaagvereistes minder te maak, en die standaarde te verlaag. Nou is die regering uit alle opsies behalwe om te keer dat leerlinge tot in Matriek vorder. Is daar niemand in matriek nie, dan druip niemand immers nie. Dis ‘n taai toffie. Baie van die ouer Afrikaners is ook met gelapte broek, griffies en leie, plaasbrood met vet gesmeer en meester se lat deur plaasskole. Van die

slimmes het sommer al kleintyd meer by die oues opgelet en standerds gespring. Oom Blackie Swart het so jonk in Matriek beland, hy moes eers ‘n jaar of wat uitsit voor hy oud genoeg was om universiteit toe te gaan. Wyle Heine Toerien het op 19 al ‘n meestersgraad in Grieks gehad, maar dis ‘n verhaal op sy eie. Plaasskole, dit weet Herrie, vereis baie groot toewyding van kind en onderwyser. Baie groot. Maar as die vrugte van sukses gepluk word is dit baie soet.

Kennis van die aand want dis lekker in die donker
Jare gelede, met Kennis van die aand wat onder die maatemmer moes bly, het ons Afrikaans-Nederlandse dosent na dié omstrede boek as “Dis lekker in die donker” verwys, ‘n heel duidelike sinspeling dat dit die plek, of liewer geleentheid is wanneer die kat geknyp word. In daardie stadium was Jors Troelie se kennis van kat in die donker knyp nog min of meer beperk tot verhale van ‘n paar ongure karakters, soos ‘n proffie in Landbou by ‘n ander universiteit wat redelik blatant was, soos om vanuit sy “vriendin” se koshuiskamer met studente te raas wat buite bietjie hard lawaai het. Vreemde dinge aangevang, soos om vir sy departement ‘n nuwe yskas aan te skaf, maar die nuwe in sy huis te gebruik, en die huis se yskas departement toe te neem. Toe gaan kopieer hy ‘n Australiese artikel in ‘n vaktydskrif, en die lelike Aussies kla toe oor die plagiaat. Het hy dit net vertaal, het niemand dit dalk agtergekom nie. Hieroor beland hy op straat, maar kom by vroulief en vertel hy het bedank, en gaan nou vir sy skoonpa in ‘n ander provinsie boer. Hier daag sy vrou een aand op ‘n buurdorp by haar man se verlowingspartytjie op, en lig die aanstaande bruid in dat sy eintlik nou aan ‘n getroude man verloof geraak het. Om die een of ander rede word die verlowing sommer tydens die partytjie verbreek. ‘n Ruk later laat kom die dekaan van ‘n mediese skool ‘n kennis van die uwe, en sê hier is iemand wat vir ‘n professoraat aansoek doen, maar iets is nie pluis nie. Toe die einste eks-proffie wat mediese kwalifikasies veins. Die laaste wat van hierdie Casanova verneem is was dat hy gevang is dat hy mense se pos uit hul posbusse steel. Ai, en dan was daar die voormalige politikus wat in ‘n stadium so vir die media uit Griekeland (hoekom so alewig Griekeland?) uit briewe geskryf het om te vertel hoe oulik die ANC is. Jare tevore egter, in die dorp waar hy eens dosent was, het my pa se sekretaresse ‘n foonpes opgedoen, en by die polisie gaan kla. Die polisie daag met ‘n bandopname op wat van ‘n foonpes gemaak is wat ‘n getroude vrou geteister het, om te hoor of dit dalk dieselfde pes is. “Nee,” seg sy, “maar daai stem is dié van *&^%.”

Snaaks, sedertdien kon daai man eintlik niks doen sonder om Jors Troelie te walg nie, soos sy oorlopery na die ANC en sy gatkruipbriewe uit Griekeland uit. Maar toe kom dit die uwe ter ore hoe ‘n deftige aangetroude familielid se pa, eens burgemeester van ‘n vooraanstaande dorp, self anderkant die draad gaan kuier het. Dié burgemeester was ook ‘n bekende skoolhoof. By geleentheid glip hy by die skool weg, en sy vrou wat half teë was op dié storie bel ‘n munisipale amptenaar en sê net: “Die burgemeester kuier by jou vrou.” Die amptenaar sit af huis toe, en maak liggies beswaar. In die proses van beswaarmakery is die skoolhoof, broek in die hand, by die venster uit, en begin die rieme neerlê skool toe, met die woedende amptenaar al skreeuend agter hom aan: “Die burgemeester kuier by my vrou, die burgemeester kuier by my vrou...” So is die prosessie die skoolterrein in, skoolhoof / burgemeester steeds broek in die hand. (Dit was depressiejare en ‘n man het nie sommer onnodig klere laat wegraak nie). Maar toe begin die voete van klei ook in ‘n meer direkte omgewing deurslaan. ‘n Destydse DG en sy skakelbeampte se name begin in meer as een opsig oor ‘n hegte liaison die rondte doen. Een dag let Jors Troelie per toeval ‘n “small” op dat die DG geskei is. Die volgende oggend is die DG en die skakelbeampte se verlowingsfoto op die voorblad. ‘n Ruk later begin gerugte die rondte doen van ‘n rektor wat so met ‘n personeellid kafoefel, en dié maak sterk opgang. Toevallig nog die (getroude) dogter van ‘n uiters ongewilde adjunk-minister. Toe ‘n redakteur diskreet navraag doen nadat vakbonde wat nie hond-haaraf kon maak nie kom kla het oor die onregmatige bevoordeling word die instelling se advertensies by daardie koerant summier opgeskort. Die skakelmense se instruksies was om regstreekse navrae as “infame leuens” te beantwoord. ‘n Ruk later is daar nog ‘n “small” en ook die volgende dag ‘n aankondiging dat dié rektor met die infame leuens gaan trou. En sowaar, in dieselfde dorp begin dit toe algemene kennis raak dat ‘n rektor by ‘n ander instelling ook so anderkant die heining wei, dat dié dame ook uit ‘n betreklike junior pos na ‘n totaal vakvreemde pos bevorder is waarvan sy g’n benul gehad het nie. Weer eens is daar stories oor gesamentlike “amptelike” oorsese reise. Nou blote toeval. Die een gewese rektor en die gewese DG is toevallig lidmate van dieselfde kerk as waarvan FW lidmaat is. Boonop het ‘n baie bekende teoloog van dieselfde kerkverband juis in daardie tyd ook die nuus gehaal oor ‘n Griekse dame. Die voete-van-klei-verhaal kon net sowel, met hier en daar ander hoë karakters gehandel het oor die bekleërs se borrelende geaardhede ... weens hul liefde vir die borrel. Trouens, ‘n effense langer verhaal.

Die belastingbetalers betaal baie om leiers te hê, en die verwagting is duidelik dat hierdie leiers ook ‘n voorbeeld moet stel. Daarom is dit ook bykans verseker dat ‘n gevryery anderkant die draad Max-imale aandag gaan trek. Soos ‘n ander politikus gesê het: As die bekleër nie hou van die kollig op sy knypery in die erg verligte donker nie, moet hy bedank. Niemand verplig hulle om daar hoë ampte te beklee nie. Maar ai, ook daardie politikus het ‘n dogter waarvan haar man nie die pa is nie.

Herrie se kerrie: Die swaeltjies
Van Herrie maar kon onthou, het swaeltjies hulle tuisgemaak by huise waarin Herrie grootgeword het. Neste van klei met sulke onderstebo iglo-ingange. Oulike voëltjies, dié wat vlieënde goggas in transito uit die lug “stofsuig” deur met hul oop bekkies so kos te “kollekteer.” Maar alles is nie altyd wel met swaeltjies nie. Daar is verskillende soorte, en nie almal is bereid om sulke volledige neste te bou nie. Die gevolg is dat daar soms ‘n kortstondige geveg uitbreek waar ander soorte die bouers uit hul eie neste kom verjaag. Herrie onthou hoe Ma Johanna met so ‘n oorname “haar” swaeltjies met ‘n swaaiende besem probeer bystaan het. Van die swaeltjies kan aggressief word. Soos by oom Nico-hulle op die plaas waar die nes bokant die voordeur was, wat lastig was, want elke keer as mens die huis ingegaan of uitgekom het, het die swaeltjies soos wafferse kamikazevegters op ‘n mens afgeduik. Maar vir 20 jaar was Herrie se huis swaeltjievry, en moes Herrie maar doen met die hadidas en af en toe ‘n hoep-hoep wat Herrie help wortelvretende goggas in die grasperk in bedwang hou, en meer gereelde lysters en mossies wat verseker dat die Herrie niks vye geoes kry nie, en mev. Herrie se persimmons soos goud bewaar moet word. Om kamikazevegters te kry, moes Herrie en Pumba die koerant by die keraats op die hoek gaan koop, waar twee spreeus Pumba geteiken het. En toe begin twee blouswaeltjies dié somer hul nes reg bokant die Herries se voordeur op ‘n buitelig bou. Hulle het baie vinnig gebou, maar toe dit by die tuit kom, was nat grond blykbaar skaars en is dit stukkie vir stukkie met verskillende kleure bygebou. Nou is dit ‘n yslike lang gang met ringe van verskillende kleure. Groot Herrie het gou opgelet met watter vaart daar by daai ingang ingeduik word. Mens sou dink hulle moes ‘n matras teen die agterkant hê om die vlugspoed te breek.

Soms het een ewe kontant by die bek uitgeloer na die mense wat hier vlak onder sy neus die huis in- en uitgaan. Soms het hulle op die hek voor die oop deur gesit en die menslike aktiwiteite in die huis betrag. Toe is daar blykbaar gebroei, en toe was daar ‘n rukkie ‘n geraas in die nes. Herrie het maar duim vasgehou die kleintjies kry behoorlik gevlieg as hulle uitgeskop word, want die Herries het ‘n kat wat gereeld rotte, muise en voëls huis toe bring. En toe op ‘n dag is daar ‘n geskarrel. Herrie wonder nog of hy moet gaan besem haal om indringer-swaeltjies te help verwilder, maar in ‘n stadium is een in die nes, en drie bekyk die mense in die huis redelik raserig. Kuiergaste of die kleintjies wat omtrent al so groot soos die ouers is? Gelukkig, met al die jare se blootstelling aan swaeltjies, kan Herrie nou al Swaeltjie verstaan. So hoor Herrie, rofweg vertaal: “Kinders, daardie is nou mense. Hulle is partykeer ons grootste vyande, en bly daarom veilig weg. En o gaats, daar kom Pumba die hond. Wees baie versigtig. Oeps, en daar is die kat. Van ‘n kat moet julle maar ver weg bly.” Voorlopig dus. Lyk dit of Herrie tot die winter al moet wag om die nodige herstelwerk aan die dak en die plafon te doen, waar die onlangse reën bietjie skade voor die voordeur gemaak het. Saans bly die buitelig maar af, tensy die lig net vir ‘n rukkie benodig word, want daai hele lig word naderhand vuurwarm. Alles ter wille van die swaeltjies. Want Herrie voel bevoorreg dat swaeltjies weer sy huis as tuiste gekies het. Die regte soort swaeltjies.

Kleurryke geskiedenis
Die afgelope naweek was die Herries by oupa Nic en Ouma Engela se goue bruilof. Wanneer dit sulke tyd is, is dit te wagte dat daar al ‘n paar generasies sal wees, van pikkies wat buite krieket met die vreemdste reëls speel, tot oues in rolstoele en ‘n verskeidenheid kieries en ander loopgoed wat ‘n Zoeloe-optog met tradisionele wapens na ‘n kindertuinoptog teen vetkrytpryse laat lyk. Oupa en ouma self is nog hups sonder loop-hulpmidels. Tradisioneel is ‘n heildronk met vonkelwyn ingestel, wat Herrie aan ‘n stukkie laat dink wat vriend Hennie aangestuur het. Herrie pas dit noodwendig aan. Die Vrystaatse LUR wat in die Wetgewer gesê het die misdadigers se voorouers het met skepe die land ingekom het (en toe vergeet het die slawe se voorouers het ook so hier aangeland) het die storie met ‘n ander verwar.

Die werklike verhaal is die storie van die drinkebroers, die Ohlsons se aankoms in Suid-Afrika. Dit lui min of meer so. In die jaar 1672 het oudemeerster John Ohlson met die befaamde Three Ships onder die bevel van Captain Morgan uit Cape Velvet na Indië vertrek. Aan die Kaap, naby die plaas Simonvlei het die vloot gestrand, maar gelukkig kon die bemanning die passasiers deur die klipdrift aan wal kry. Een van die bemanning, Johny Walker, is op ‘n white horse wat by die strandloper, Hanepoot, geleen is, na die castle gestuur om hulp te gaan kry. Onderweg het hy vreeslike moeilikheid met die lions gekry, maar gelukkig op ‘n ekspedisie afgekom wat gestuur is om na bouvalle van die ryk Monopotapa se hoofstad, Jeripigo te gaan soek. Die ekspedisieleier, ene Heineken, vererg hom so vir die lions en gaan blaker hulle met sy voorlaaier, Hunters Gold. Hy stuur toe ‘n Potugese skipbreukeling, Dom Pedro, saam met Walker na die castle. Die kommandeur was so bly oor geselskap dat die fort se bells lank gebeier het. Walker het egter die kommandeur se dogter Bernini, raakgesien, maar die kommandeur was so die mampoer in hieroor dat hy Walker ge-Martell het. Walker was egter g’n cold duck nie, maar ‘n man met die red heart van ‘n fish eagle. John Walker en Bernini is gou getroud en hul skoonseun, Chivas Regal het later triomfanklik saam met die Ohlsons Johanneberger te midde van musiek van ‘n 100 pipers binnegetrek en die bekende kuierplek, die Amaroela, geopen.

Die ding in die huis wat niemand sien nie...
Hulle woon in huise – waarskynlik alle huise. In sommige huise in die kaste, in ander huise in die wasgoedmandjie, of kruip op die vloere rond. ‘n Mens sien hulle egter nooit. ‘n Mens sien net die skade wat hulle aanrig. Of eintlik sien mens juis nie die skade nie, want hulle vreet dit op. Dis nou daardie ding wat kouse en sakdoeke vreet. Die ergste is, hy vreet nie ‘n paar sokkies op nie – nee, hy vreet altyd net een van ‘n paar. Kort voor lank sit die slagoffers met ‘n trop sokkies waarvan nie twee bymekaar pas nie. En dit maak nie saak hoeveel verjaarsdae die mannegoed in ‘n huis gehad het met ‘n Kersfees tussenin nie, en waar almal ‘n hele vrag nuwe sakdoeke in sulke netjiese pakkies verpak, gekry nie – dis net ‘n rukkie dan makeer die sakdoeke weer. Eers sal pa en seuns oor en weer by mekaar sakdoeke kom leen, afhangende van wie se kas nog nie so erg deurgeloop het nie.

Soms steek die ding wat sokkies vreet van die sokkies iewers weg, soos in die verste donker hoekie onder ‘n bed, of heel uit sy plek uit onder die T-hemde in die laai. Of die ding wat sokkies en sakdoeke vreet, familie is van die ding wat gate in onderbroeke vreet, weet g’n mens nie, want hy is net so onsigbaar. En die ergste is, ‘n man kom skynbaar self nie agter die ding wat die gate in vreet het ‘n man se ondergoedjies beetgehad nie. In elk geval nie voor hy in die koerant lees van die gate nie. Die uwe het gemeen daar is ook ‘n ding in die huis wat lakens skif en later gate deurvreet, maar vroulief sê ou Herrie se hakskene is net skurf. En om te wys dis so, is ‘n ou, dik laken dubbel gevou en slaap nou onder my skurwe pote, en die lakens bly heel. Jare gelede het ek korte mette van die ding wat sokkies vreet probeer maak, en rottegif uitgesit. En heng, was Jors Troelie nou in die dog box?! Want Klein Herrie was willebooslik ongelukkig oor die tandemuis wat afgesterf het, en hy was juis flink aan die wissel en die mannetjie het vermoed hy gaan skade in klinkende munt ly.. Een nag was Oudste doodseker hy het op die ding wat sokkies vreet getrap, maar dit blyk toe hy in die donker klein vertrekkie toe is, het hy op Mevrou se skippertje getrap. En dié het op slag tande ingelê. Want kyk, vroulief se brakkie is nie maklik nie. Net sy mag aan haar hondjie vat, die ander hoor net ‘n vlugtige grom en dan loop die bloed. Vier steke was wat ‘n kliënt nou eendag opgedoen het. Om ‘n idee te gee. Vroulief se suster en twee seuntjies kom kuier, en by vertrek wil die een jongetjie opsluit vir Snoetie gaan groet. Kry haar waar sy vir die gedruis wegkruip, onder ‘n bed. “Tannie Ousus!” roep hy benoud, “die hond brul vir my!” En moenie dink Snoetie se teenwoordigheid en humeur het die ding wat sokkies vreet se spoed gebreek nie. In teendeel, jongtyd het sy self heerlik met die ding meegedoen en self aan sokkies weggelê.

Die hart van outisme
“Hoekom ek slaap?” Hoe verduidelik ‘n mens aan jou outistiese kind hy het nie sommer maar so staande aan die slaap geraak nie? Dat hy flou geword en omgekap het? Ons ry huis toe na sy eerste bergfietswedsren. Soos gebruiklik moes pa – dis ek – saam ry want verstaan is nie altyd maklik nie en ‘n mens wil nie diskwalifikasies en daardie teleurstelling hê nie. Die

deelnemersmedaljes is vir hom baie werd – dit inspireer hom om iets te vermag te presteer. In baie opsigte is ons jongste nie tipies outisties nie. Hy is dol oor sekere mense, hy is ouervas. Hy is nou amper 17, en baie langer as sy pa en ma. Kort voor die naweek was dit sulke tyd – sy ma se jarelange skaduwee, Snoetie, het ‘n laaste rusplek in die agterplaas gekry. Snoetie het net een mens geduld – vir vroulief. Ons ander het gereeld onder die tandjies deurgeloop. Tog was dit ons jongste wat sedertdien kort-kort sorg dat daar blommetjies op Snoetie se laaste rusplek is. Netnou was hy weer hoog op ‘n leer om blommetjies wat in ‘n palmboom ingerank het by te kom. Kleintyd het ons die deelnemersmedaljes ingeryg – pretrappe en pretdrawwe. Dié mannetjie het asem. Toe hy nog na die spesiale skool gegaan het, moes ek een keer per week skool toe gaan en in die oefenperiode saam met die atlete om en om die skool hardloop, sodat die mannetjie kon verstaan wat van hom verwag word. Nie lank nie, toe kry ek ‘n medalje vir deelname aan ‘n 20 Km-wedloop, jare na ek uit landloop getree het danksy ‘n knie wat voor en na ‘n operasie nie meer wou saamwerk nie. Die jaar daarna doen ek my eerste standaardhalfmarathon, en vroulief gelas dat dit ook die laaste is. Die knie maak óf oefen, óf deelneem moontlik. En toe was die uwe amper 50. Hierna het die geldsakies gemaak dat Saterdagoggende deur smous op die boeremark vasgevang is. Vanjaar het die dinge so gedraai dat Saterdagoggende weer oop is, en uiteindelik het die dag aangebreek dat ons weer ‘n eerste fietsrybyeenkoms kon inwerk. Pa is op kleinman se ou fiets waarvan die agterwiel met elke draaislag iewers haak. Kleinman het ‘n regte bergfiets gekry, opgebou uit nuwe en ou onderdele.” “Moenie vir pa wag nie. Ry so vinnig jy kan.” Nie lank nie, toe is daardie agterwiel wat so vassteek pap, en die trap word moeilik. Kleinman is los voor, al ry hy net in eerste rat. Om van ratte te probeer verduidelik is ‘n emosionele affêre, en eindig gewoonlik in stilstuipe. Uiteindelik kom die uwe by die eindstreep aan, en kry ‘n deelnemersmedalje, maar daar van die bakkie af word beduie. Hoe nader “gedraf” word (die bene wou nie meer regtig nie) hoe meer kom woorde soos “flou geword” en “”kop gestamp” aangewaai. Anderkant die bakkie lê kleinman plat op sy rug, maar by. ‘n Paar besorgde mense byderhand. Bloed is op kleinman se hande. Ek let op sy fiets se voorwiel is pap, en ek kan my indink hy het uiteindelik die idee van kompetisie gesnap, en gejaag, en met ‘n pap wiel, sy gô uitgetrap. Boonop was hy vooraf so opgewonde, hy het baie laat gaan slaap die vorige nag, en was ook bitter vroeg op.

Terwyl hy vir pa by die bakkie gewag het, het hy flou geword en agteroor geval, die kop stukkend. Ek “draf” om hom te gaan Coke koop, sy gunstelingdrankie. Terug by hom, is ‘n paramedikus ook by, ‘n apparaatjie aan die lang dun vingertjie. Hy beduie hy is “fine”, hy wil huisie toe gaan. Min taal, maar dit wat hy opdoen is van ‘n mengsel bronne en baie van sy strokieshelde op TV, en dié is feitlik voor die voet Engels. Soms spreek die Engelse woorde ook makliker uit met die beperkings op klankreproduksie. Ons pak die pad huis toe aan. En dis toe dat hy wil weet hoe dit dan is dat hy so aan die slaap kon raak. Ek probeer beduie van “lights out” en ander terme wat ek uit sy Jackie Chang-videos kan oproep, maar tuis word ma ook ingelig van die aan die slaap rakery, en toe die kopvallery. Nie lank nie, is sy kop soos ‘n mummie toegedraai, en kleinman is nie min beïndruk nie. Nou kan almal sien hoe ‘n vreeslike ding hy oorgekom het. Pa probeer wiel regmaak. Die ou fiets se binneband is daarmee heen. Sy nuwe ryding se voorwiel lewer vier gaatjies op, voor dit lyk of alles toegeplak is. Vanoggend, op die Sondag, is die voor- en agterwiel pap. Môre, op die vakansiedag, is dit verder regmaak. En so, verband om die kop is kleinman die leer uit, blommetjies daar bo vir Snoetie. En sy pa wil hom dooddruk.

Herrie se kerrie: Kortstondige skool
Na aanleiding van Herrie se vertelling van skooleskapades laat weet vriend Hennie van nog so ‘n misverstand. Sy seun, Bennie, vertel hy, is soos gebruiklik vroegoggend deur sy ma by sy Graad 1-klassie afgelaai. Dié dag was Bennie egter reeds tienuur te voet terug van die skool af. “En nou?” wil ma weet. “Ai, ons was net aan die gang, toe roep die hoof vir juffrou oor die interkom en sê sy moet haar rooster saambring kantoor toe. En ma weet self hoe hou lank ‘n braai van die onnies aan toe kom ek maar solank huis toe.” Herrie was darem self in ‘n paar klasse waar op misverstande van die onnies geteer is. By Herrie se aanvanklike skool – ‘n seunskool op ‘n universiteitsdorp en wat as prestige skool beskou, is vreeslik graag afgetrede inspekteurs as aflosonderwysers aangestel. Dit, na Herrie se beskeie mening, was dikwels eerder chaos as ‘n sukses.

Destyds was dit die Tulbach-aardbewing, en die Herries se dorp is self maar taamlik geskud. So kwaai, ‘n mens kon die naskokke al van ver af hoor kom – so ‘n soort dreungeluid. By die een afgetrede inspekteur, wat klas in ‘n buitegebou gegee het – amptelik bekend as die demonstrasieklas, maar wat onder die leerlinge as die detensieklas bekend gestaan het – was dit maklik om die klas te ontruim as ‘n mens ‘n aardbewing hoor kom het. Die dreuning van bykans enigiets soos ‘n vragmotor het gedeug om die klas te ontruim as mens nou nie meer lus vir klas was nie. Dit was so vier keer per periode. By ‘n ander afgetrede inspekteur het ‘n paar nie-bestaande spreeus in die dak (sy klas was op die onderste verdieping en baie ver van die dak af), by die skoolhoof in die sop beland oor hul geraas. Die geraas was in werklikheid van Ollie se lagmasjientjie afkomstig, maar toe die onnie toeslaan op die geluid het dit meer aangewese geklink om die spreeus die sondespreeus te maak, eerder as om Ollie en sy masjientjie na die skoolhoof se kantoor toe te laat stuur. Die grootste wegkom was egter by ‘n ander afgetrede inspekteur, wie se klas op die boonste verdieping was. Die sonnetjie het lekker by die vensters ingeskyn, en Charl se witbroek (ja, ons destydse LO is in wit kortbroeke gedoen) het op sy bank in die sonnetjie gelê. Charl het iewers ‘n halwe stompie opgetel. Hiermee het hy in die klas opgeskeep gesit, tot hy merk Steyntjie reg agter hom sit verveeld en gaatjies met ‘n vergrootglas in sy bank en brand. Twee en twee is vier, en toe trek Charl lustig teue in die klas. En toe word die onnie wakker en hy gaan loop ‘n draai deur die klas. Charl druk die rokende stompie onder sy bank in. Gelukkig vir hom het die onnie self kwaai gestook, en na twak gestink, dus lei hy af dis die witbroek wat nat in die son stoom. Hy steek vas, bekyk die “stoom” wat so optrek en sê Charl aan om die witbroek te bêre. Gelukkig het Herrie darem skool in die Vrystaat kom klaarmaak.

Om Nederlands deur ‘n Afrikaanse bril te lees laat die lense toewasem
Omdat Afrikaans en Nederlands al ‘n paar eeue min of meer hul eie koers loop, is verwarring in woordeskat te wagte. Soms met humoristiese gevolge. As eerstejaar met ‘n Nederlandse voorgeskrewe boek in Stedelike Geografie het dit kopkrap gekos om uit te pluis die alewige “vaak “ in die handboek het niks te make met ‘n eerstejaar wat die nag sittend op twee bierblikkies deurgebring het, nie. Of die Nederlandse besoekers aan huise wie se dogter in vervoering geraak het toe Sus se “fraaie” kat die vertrek ingestap kom. Haar ousus het haar uitroep oor die wandelende gedroggie met ‘n harde, strategiese “kat!” gesmoor. Of as mens lees van die Palestyne wat die Israeli’s so met “raketten” bestook.

Of selfs al die verskillende “versies” wat oogetuies van ‘n bomontploffing opdis. Jare gelede het ‘n kennis van wyle Pa-Jan ‘n doktorsgraad in Nederland gaan doen, en terwyl hy daar was solank ‘n tikster aan die werk gesit om met die tikwerk te begin. Fout. Want die instansie wat die “hoofrol” in sy tesis gespeel het, is vernederlands, en het dus ‘n “hoofdrol” gespeel – iets wat in Afrikaans en Nederlands kwalik iets verbandhoudend kan beteken. Dié staaltjie skiet my vanoggend te binne toe ek die volgende in Trouw te lese kry, waar die “d” toe wel sy Afrikaanse betekenis vervul: Schadevergoeding na val door hondendrol MARSEILLE (ANP) - Het stadsgewest Marseille moet een schadevergoeding betalen aan een vrouw die in 2001 uitgleed door hondenpoep op de stoep en daardoor een botbreuk opliep. Dit heeft het gerechtshof in Marseille bepaald.

Sign up to vote on this title
UsefulNot useful