Vlis met vlerke

A n n e m a ri Co e t s e r

Ta f e l b e r g

Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, Heerengracht 40, Kaapstad Teks © 2010 A. Coetser Tipografiese ontwerp en setwerk deur Chérie Collins Omslagontwerp deur Laura Oliver Geset in 12 op 15 pt Palatino Gedruk en gebind deur Creda Communications Eerste uitgawe, eerste druk 2010

ISBN 978-0-624-04843-5

Alle regte voorbehou.

Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.

Met liefde opgedra aan my kleinkinders: Donné, Andine, Mieke en Zander Omdat julle my nuwe dinge leer en my laat lag

hoofstuk 1
’n Aaklige, skril geskree klink op by die deur wat uit die kombuis na die donker gang lei. Oomblikke gelede het Andine haar nog op ’n groen stoel by ’n houttafel in ’n vreemde kombuis sit en verveel. Zander, haar jonger boetie, het teen die tafel geleun en ’n speletjie op sy PSP gespeel. Nou sit hy styf langs haar op die stoel en hulle arms klou vanself om mekaar vas. “Wat is dit?” Sy vingers boor in haar arms in; sy ruik sy stowwerige seunskindasem. “Wat maak so?” Die ding tjank-skree weer en haar nekhare rys. Dis ’n spooky geluid, soos ’n gees wat sukkel om sy stembande weer te laat werk, of soos ’n alien. “Ek weet nie,” fluister sy. Sy weet flippen regtig nie, sy wens sy hét geweet. Hoog teen die deur se kosyn sweef iets ronderigs die kombuis in; ’n weird, sagte swart vorm. Dit swiep weer terug. Die lig is te dof om mooi te sien, maar elke keer wanneer die ronderige swart ding inswiep, lawaai die spook. Toe die ding weer die kombuis binnesweef en lelik kerm, gil Andine verskriklik, gryp vir Zander en sleepdra hom in die rigting van die slaapkamer waar die grootmense is.

8

’n Klomp goed gebeur gelyk. Die kamerdeur vlieg oop. “Wat is dit? Wie skreeu so?” Jam hardloop na hulle toe. Sy trek hulle af grond toe en vou haar arms beskermend om hulle, soos ’n hen wat haar kuikens bymekaarmaak. Oom Frans loop met lang treë verby hulle na die donker gang en roep hard: “Thapelo!” ’n Seuntjie hardloop die kombuis binne. Hy lag soos ’n perd wat runnik; jy sien net wit tande. Hy swaai ’n swart verestoffer rond en skeur hom vir sy eie grappie. Jam vlieg van die grond af op. Sy gee net ’n paar groot treë, toe is sy by Thapelo. Haar kort lyf in die bruin sweetpak lyk soos ’n oorlogstenk in volle vaart. Sy trek haar hand ver terug, bal haar vuis en mik na sy kop. Andine dink sy gaan hom met een hou verpletter. Hy dink ook so en koes. Jam lag en gee hom ’n drukkie. “Eish, Thapelo!” sê sy. “Jy’s nog net so ’n terggees. Jy het ons almal uit ons skoene uit laat skrik, jou otter!” Sy sit haar hande op sy skouers en draai hom om na Andine en Zander toe. “Hierdie stoutgat,” sê sy, “is oom Koos en tannie Elize se grootmaakkind, Thapelo. Sy ma hou skool en hierdie vakansie werk sy aan ’n projek.” Sy skud Thapelo effens. “Sê vir Andine en Zander jy’s jammer, toe! Dadelik!” Thapelo kyk af vloer toe, maar Andine kan sweer hy is nie jammer nie, want die kuiltjie in sy wang duik in.

9

“Sorry,” brom hy. “Ek het nie geweet julle sal vir ’n ou verestoffertjie skrik nie.” Oom Frans raas ook met Thapelo. “Hulle is ons gaste!” sê hy kwaai. “’n Mens maak nie so met kuiergaste nie.” Jam spring omtrent dadelik in haar sersant-majoorrol in en begin aandete organiseer. Andine gaan weer op die groen stoel langs die tafel sit. Haar hart klop soos ’n outydse wekker in ’n koekblik. Wat gaan op hierdie weird plek aan? Is Jam mal om hulle hierheen te bring, na ’n plot wat soos ’n scene uit ’n horror movie lyk? Die weird-geit het nou-nou al begin, toe Jam van die grondpad af op ’n kleiner paadjie na die plot afgedraai het. ’n Laning hoë, donker sipresbome het lang skaduwees oor die pad gegooi. Regte kerkhofbome, het Andine gedink, geril, en haar nek gerek om oor die voorste sitplek se kopstut te kyk. Langs haar het Zander probeer om deur sy groot nuwe voortande te fluit, maar dit net reggekry om die venster aan sy kant van die kar papnat te spoeg. “Dis nie so erg soos dit lyk nie,” het Jam gesê toe hulle tussen die bome uitgery en die armoedige huisie voor hulle gesien het. Die dakplate het skeef oor die voorstoep gehang. Plaasgereedskap, motorwrakke, stukkende yskaste en geroeste sinkplate het die erf se agterkant vol gelê. “Ek het nie geweet jou oom en tannie is maplotters nie,” het Andine gesê, haar vingers toegevou en haar nuwe naelverf bekyk.

10

“Hoewebewoners.” Jam se ouers het glo altyd met haar baklei as sy haar tale meng, nou praat sy nog steeds die taal so suiwer. Partykeer help sy ’n mens reg, maar sy is nie ernstig daaroor nie. “Moenie dat die gemors julle afskrik nie. Tannie Elize en oom Frans is baie goeie mense.” Sy het die Landrover Discovery afgeskakel en ’n lomp Great Danehondjie het teen die kar se regtervoordeur opgespring. Oom Frans het uit die huis gekom. “Voertsek, Skroef!” het hy hard met die hond geraas, die deur aan Jam se kant oopgemaak en net so hard gesê: “Hallo, Ou Perd! Is dít nou die kinders wat jy moet grootmaak?” “Au pair! Nie Ou Perd nie!” Jam het gelag en uitgespring. “Dis Frans, oom Frans!” Sy het nie gesien hoe hy vir Andine geknipoog het nie. Andine dink Jam wou hom eintlik net ’n verlangse drukkie gee, maar oom Frans het Jam omhels en haar gesoen. Jam het haar mond met haar hand se rugkant afgevee. “Ek pas die kinders op wanneer hulle ouers werk,” het sy verduidelik en die deur vir Zander oopgemaak. “Dis nou skoolvakansie, maar hulle pa en ma het in Oezbekistan se berge gaan voetslaan. Hulle is uitgekuier by al die gewone toeristeplekke.” Sy het deur die oop deur vir Andine geglimlag en haar vingers deur haar eie bos rooi hare gesteek wat in pennetjies op haar kop regop staan. Andine het bly sit. Sy het haar oë gerol en haar vingers met die rooi naels oor haar nuwe distressed jeans

11

gestryk, vies omdat Jam van kinders praat. Twaalf is ten minste al amper groot. Zander, ja. Nege is nog pure kind, kyk hoe laat hy toe dat Skroef sy klere vuilsmeer. “Hallo, grootman!” het oom Frans gebulder, vir Zan­ der nadergetrek en hom ’n drukkie gegee. “Hoekom is jy so bleek, jong?” Hy het nie op ’n antwoord gewag nie. “Die vars lug op die plot sal jou goed doen. Dis jammer ek moet môre vir ’n paar dae weggaan, anders het ek jou leer ploeg.” Zander het weggestaan tot styf teen Jam. Sy het haar arm om sy lyf gesit en haar oë gerol. “Ploeg, oom Frans? Dis Zander van wie ons hier praat! Hy is maar so ’n bie­ tjie van ’n bleeksiel.” Sy het sy blonde hare wat hy die oggend so mooi ge-jel het, deurmekaar gevryf. “Kyk hoe lyk hy: die ene tande, maer bene en knopknieë, maar hy is eintlik vreeslik slim en ek is mal oor hom.” Zander het gemaak of hy gril toe Jam hom op sy kop soen. Hy het sy bolip opgetrek sodat hy nog meer na Bugs Bunny gelyk het: “Ehh, what’s up, Doc?” het hy gevra. Agter in die Landy het Andine op haar horlosie gekyk en gedink hoe mooi die rooi bandjie by haar rooi toppie pas. Sjokoladebruin is die nuwe swart, het sy ook gelees. Sodra Jam klaar is met haar charity-werk op die plot, gaan sy haar vra om haar weer mall toe te vat sodat sy iets in bruin kan gaan koop. Jam het by die motor se agterdeur ingeloer. “Toe kom, juffrou, gaan jy nie uitklim nie?” Sy het haar hand uitgesteek, Andine se hand ’n vriendelike plukkie ge-

12

gee en haar uit die motor getrek. “Hierdie pragtige meisiekind se naam is Andine,” het sy trots gesê en haar ’n bietjie vorentoe gestoot. Andine het oom Frans vinnig met die hand gegroet om ’n sopperige soen te vermy. Met Jam se arms liggies om Andine en Zander se skouers het hulle na die huis geloop, oom Frans vooruit met Skroef al om sy bene. Die voorste deel van die erf het gelyk asof iemand darem probeer tuinmaak het, al was die gras nou doodgeryp en geel, maar agter die huis het dit vir Andine soos ’n ontploffing in ’n scrapjaart gelyk. Definitief nie die plek waar ’n mens ’n wireless hotspot moet verwag nie! Agter ’n paar bome het die son poskaartmooi in awesome kleure ondergegaan. ’n Paar verkeerdeveerhoenders het op ’n werkstafel in ’n skuur rondgeskrop. Hulle het om die huis na die oop agterdeur geloop. Andine het geskrik toe die sterk veer die gaasdeur agter haar laat toeslaan. Die huis was stil en die kombuis baie donker. Oom Frans het die lig aangeskakel. Die eerste ding wat Andine gesien het, was twee oranje vlieëvangers wat om die lamp hang, pikswart van die dooie vlieë. ’n Paar vlieë het nog aan die gompapierstringe gespartel. The horror! Sy wou puke, so het sy gegril. “Jean-Marie, is dit jy?” ’n Bewerige outanniestem het uit die kamer gekom wat direk uit die kombuis uitloop. ’n Heks, het Andine gedink. Sy klink soos ’n heks. Alles het haar bang gemaak.

13

“Ek kom, Tannie!” het Jam geroep, en toe saggies gesê: “Tannie Elize is die enigste mens in die wêreld wat my nog so noem.” Sy het na Zander gekyk. “Jy bars as jy my ooit . . .” Haar wysvinger het sy neus rakelings gemis. “Die vorige ou wat dit probeer het, lê in sale sewe, agt en nege in die hospitaal en . . .” “. . . en jy haat die naam, JM het vir jou beter geklink, maar toe noem almal jou sommer Jam,” het Zander haar in die rede geval. “Ons weet. Jam is oukei, dit pas by jou rooi hare. Jy’s tamatiekonfyt, en jy kook!” Jam het haar bors uitgestoot en ’n paar danspassies gegee om te wys hoe cool sy is en hoe sy kook, en toe die deur na oom Frans en tannie Elize se kamer oopgestoot. Andine het effens gesnuif en op die groen geverfde kombuisstoel by die tafel gaan sit. Mense wat so hulpeloos is, irriteer haar. Kan die tannie nie hospitaal toe gaan nie? Haar ouers gaan glad nie daarvan hou dat Jam hulle hierheen sleep sodat sy háár siek tannie kan oppas nie, maar niemand kan hulle met e-mail of met ’n selfoon in die hande kry om hulle enigiets te vra nie. Nie voor hulle weer terug in Tasjkent is nie. Zander het op die internet gaan kyk waar Oezbe­ kistan is en hoe dit daar lyk, en natuurlik wou hy weer saam met hulle piekel. Hy dink dis great dat portiere ’n mens se bagasie en goed dra, maar sý sal sewe floutes kry as sy in die boendoes tussen al die slange en spinnekoppe moet stap. Desember gaan hulle darem Disneyland toe om daarvoor op te maak. Sy het rondgekyk. Die kombuis se groen rubberplastiekerige vloer is seker veronderstel om soos teëls

14

te lyk; haar ouma se badkamer het dieselfde goed ingehad. Húlle kombuis in hul Toskaanse huis op die gholflandgoed het ook ’n stoof, ’n yskas en kombuiskaste, maar hierdie kombuis lyk heeltemal anders: deurmekaar en tog ook cosy, behalwe vir die desperate vlieë. “Toemaar, Dientjie­An,” het Zander getroos, toe hy sien hoe sy rondkyk. “Die tannie sal seker gou gesond word en dan kan jy teruggaan na jou DVD’s en Barbies toe.” “Zander, jy verveel my,” het sy gesê. “Weet jy wanneer het ek laas Barbie gespeel?” Sy het haar vingers deur haar lang blonde hare gekam en gewens dat sy nog partykeer kon popspeel. As sy weet daar is niemand anders behalwe Jam by die huis nie, haal sy partykeer al drie en twintig haar Barbies uit en pak hulle op haar bed uit. Sy laat Ken en Barbie met mekaar gesels en partykeer vry hulle in Barbie se pienk kar. Andine weet nie hoekom sy dan snot en trane huil nie. Dis seker maar haar hormone wat op hol is. Jam sê as ’n mens twaalf is, regeer jou hormone jou. Die grootmense het in die kamer agter die toe deur gesels. Andine het met haar hande oor haar heupe gevee en gewonder of haar curves darem ’n bietjie begin aankom. Zander het orals gevroetel, kasdeure oopgemaak en ingeloer, en toe sy PSP uit sy sak gehaal, teen die tafel aangeleun en begin speel. “Is jy al honger?” het hy gevra. Toe sy nie antwoord nie, het hy weer probeer: “Hoe lank dink jy sal ons hier moet bly?”

15

Hy kan nie verdra dat tien sekondes verbygaan sonder dat iemand iets sê nie, het Andine gedink en aspris stilgebly. Dis net toe dat die blerrie Thapelo met sy bangmakery begin het, asof die kerkhofbome en die weird mense op die plaas nie al genoeg was om mens die blou horries te gee nie, dink Andine nou. Sy kyk na Thapelo. Hy en Zander is seker amper ewe oud, maar hy is korter as Zander. “Oom Frans, is daar ’n pakkie hoendersop wat ek vir tannie Elize kan maak?” vra Jam. Sy klap haar vingers, gee bevele en gou is hulle tasse uit die motor gehaal, het sy sop na haar tannie geneem en vir hulle almal ’n macaroni-en-kaasgereg gemaak. “Nou ja toe,” sê sy ná ete. “Ek sal vanaand die skottelgoed was, maar van môre af moet almal help.” Andine kyk na haar naels. Sy sê niks nie, maar sy dink baie. Sy het nog nooit ’n dag van haar lewe haar vingers in skottelgoedwater of in die grond gehad nie. Sy dink nie dis nou die tyd om te begin nie. “Ek weet dit was nie só ver hierheen nie, maar ek dink dis tyd dat julle in die bed kom,” reël Jam asof sy ’n oorslaappartytjie organiseer. “Zander, jy slaap glo by Thapelo in sy kamer en Andine, jy slaap in die vrykamer.” Sy rol haar oë en maak met haar vingers in die lug aanhalingstekens terwyl sy “vrykamer” sê. Andine lag. Sy sal dit nooit aan haar ma en pa erken nie, maar sy’s mal oor Jam. Dit was die beste idee ooit toe hulle besluit het om ’n inwonende au pair te

16

kry. Sy’s nog jonk, net een en twintig. Sy was net vir twee jaar op universiteit, toe skop sy op. Maar sy het sielkunde geswot en dit het Andine se ma natuurlik baie impress. In die oggend gaan doen sy die inkopies vir die huis en so aan. In die middae vat sy vir Zander na sy kunsklasse en vir haar na haar kitaarlesse en spraakterapie. Oom Frans stap vooruit en sit so ver as wat hy stap ligte aan, maar Andine kry hoendervleis in die lang donker gang. Die blerrie Thapelo – nou skrik sy vir elke skaduwee! Sy loer by die sitkamer in, waar blou stoele staan asof hulle al voor die skeppingsdag daar neergesit is, met beige gehekelde lappies oor die rugen armleunings. Daar is ’n snaakse, muwwe reuk in die vertrek. In die een hoek hang ’n varing in ’n groot pot van die oop dakbalke af. Dit lyk nie asof daar ’n TV is nie. Wanneer almal slaap, kom sit vreemde groen aliens met slurpieneuse seker op die stoele en gesels. Zander kom gee haar ’n drukkie voordat hy en Tha­ pelo na hulle kamer toe gaan. Hy brom saggies “liefvirjou”, so vinnig dat dit soos een woord klink. Die flippen weird kind, dink sy. Altyd “liefvirjou” of “baieliefvirjou” as hulle mekaar groet of nagsê, asof hy enige oomblik op ’n 9/11-vliegtuig gaan vertrek en wil seker maak sy laaste woorde was dierbaar. Maar sy’s darem bly hy is saam met haar in dié scary huis. Die bad het bruin vlekke en daar is ’n koekie rooi Lifebuoy op die wasbak. Gelukkig het sy haar eie seep en badskuim saamgebring. Sy was haar gesig met ’n cleanser voordat sy die badwater intap.

17

In die bad lê en dink sy aan skoolvakansies voordat Jam by hulle ingetrek het, toe sy met haar pienk iPod en lemmetjiegroen selfoon saam met Lucia en Angelique op die krom blou bank in Mugg & Bean sou sit en smoothies drink en hanna­hanna. Ná fliek sou hulle altyd die hele storie bespreek en hulle weer vir die snaakse tonele skeur. Lucia het altyd SMS’e met grappe gekry en dit vir hulle aangestuur. Oukei, Jam vat hulle op interessante uitstappies na museums en goed, en sy reël amazing pieknieks vir hulle en hulle maats. Sy het dié ding oor kos, vat altyd ’n outydse piekniekmandjie saam en pak op ’n mooi tafeldoek op die gras vir hulle die lekkerste eetgoed uit, alles goed wat sy self maak. Ook great, maar . . . Andine skuif dieper onder die badskuim in sodat net haar kop uitsteek. Eintlik het sy nie ’n idee waarvan sy hou en waarvan nié, dink sy. Haar brein is ’n sif, haar kop is deurmekaar asof sy ge-dope is. Sy begin dink Lucia en Angelique wil nie meer met haar maats wees nie. Hulle is ál meer pellie-pellie met Yolanda. Jam sê dis alles net puberteit, sy moenie worrie nie, dat sy nou net vinnig groei. Maar hoekom voel dit vir haar asof sy altyd wil huil, of haar anders wil doodlag? Toe sy uit die bad klim en haar met haar eie groot badhanddoek afdroog, verlang sy na plekke wat nie eens bestaan nie en na mense wat sy glad nie ken nie.

Sign up to vote on this title
UsefulNot useful