CHAOS, CREATIVITY AND COSMIC CONSCIOUSNESS

Rupert Sheldrake, Terence McKenna en Ralph Abraham
Resensie deur Pieter Uys

1

Hierdie is ’n stel boeiende gesprekke tussen die wiskundige en chaosteoretikus Ralph Abraham, die bioloog en skepper van die teorie van morfogenetiese velde Rupert Sheldrake, en die oorlede psigedeliese visioenêr en sjamanoloog Terence McKenna. Dié drie vriende en kosmologiese denkers bespreek die ekologie van die mens se psige (innerlike ruimte) teenoor die buitenste ruimte, die rol van chaos-teorie in die skeppingsdinamika, sowel as die herontdekking van antieke wysheid. Die outeurs, wat al drie aan die snykant van hul onderskeie dissiplines staan, daag die leser uit oor ons huidige beskouinge oor die werklikheid, moraliteit en die aard van bewussyn en lewe in die kosmos. Die soms verbluffende insigte wat hieruit voortvloei, sal geen leser onaangeraak laat nie. Die hoofstukke oor kreatiwiteit, die verbeelding en chaos is van die heel aangrypendste, en bespreek teorieë soos die kosmiese verbeelding as ’n hoër-dimensionele magneet wat die evolusionêre proses na sigself toe optrek; die Omega-punt; die verbeelding wat opdoem uit die baarmoeder van chaos; en die psigedeliese ervaring in historiese konteks. Ander sake wat onder die vergrootglas kom, is indeterminisme in die natuur; die natuur se organiserende velde soos dit wiskundig geformuleer word, die vaslegging van informasie in kristalle en in geskrewe taal, sowel as abstraksie en die voorrang van gesproke taal. Hier vind mens ook ryke insigte oor die ware betekenis van die huidige chaos-revolusie en die rol wat die rekenaar daarin speel. Ek vind die hoofstuk “Light and Vision” die heel interessantste en beslis die mees poëtiese. Daar word gekyk na fisiese lig en die lig van bewussyn, die idee dat mens se denke ’n meetbare krag is wat van jou

2

oë na buite uitstraal, die ooreenkoms tussen elektromagnetiese en mentale velde, die konsep van ’n wêreldsiel, morfogenetiese velde as ’n medium van goddelike alwetendheid en ’n kort stukkie oor die Triptamien-hallusinogene. Verder word daar ook gekyk na sake soos ontliggaamde intelligensie en nie-menslike entiteite: is hierdie bloot inwoners van die verbeelding of bestaan hulle uit eie reg? Die taalgebruik van “entiteite” word geanaliseer en daar word spesifiek verwys na uitvinders soos byvoorbeeld Kekule wat die antwoorde waarna hy gesoek het, in drome gekry het. Die vraag word gevra of die apokaliptiese tradisie ’n mitiese model is wat religieuse geskiedenis motiveer en of dit ’n intuïsie oor die einde van tyd of geskiedenis is. In dié verband word die Maja-kalender met sy voorspelling van die einde van ’n era en ’n nuwe begin in 2012 in diepte bespreek. Al drie outeurs bied fassinerende insigte oor die huidige dominasie van rasionalisme en humanisme, oor die aard van instellings en administrasie, en selfs oor godsdienstige en vorme van inisiëring, en voorsien moontlike modelle vir ’n nuwe pluralistiese en gedesentraliseerde opvoedingstelsel. Die boek sluit af met ’n woordelys, bibliografie en biografiese inligting oor die outeurs. Daar is ook ’n videoband van hierdie gesprekke beskikbaar met die titel Trialogues at the Edge of the West: Chaos, Creativity, and the Resacralization of the World. Hierdie boek is ’n geskenk van bowe vir almal wat in kosmologie belangstel, en is veral betekenisvol in die lig van hoe die wetenskap en die godsdiens hier by mekaar uitkom. Dis werklik ’n stimulerende teks

3

waarin wetenskaplike waarneming, die krag van die mitiese verbeelding, plus insiggewende toekomsspekulasie ’n bewussynsverruimende leeservaring waarborg.

4

Sign up to vote on this title
UsefulNot useful