Die Legende van Pous Johanna en die formidabele Marozia, Senatrix patricia Romanorum.

http://thecargoculte.com/archives/1583

Die beeldskone en formidabele Marozia (c. 890 – 26 Junie c. 936) was ‘n Roomse adellike wie se mag, reputasie en berugtheid tot die legende van die vroulike pous aanleiding gegee het – Pous Johanna soos haar naam eindelik in die literatuur beslag gekry het.

1

Marozia was direk verantwoordelik vir die aanstelling van minstens vier Pouse en haar buite-egtelike seun, kleinseun, agterkleinseun, en twee agter-agterkleinseuns het die troon van St Petrus beklee. Pous Johannes XIII was haar neef, die seun van haar suster Theodora. Die term “pornokrasie” word deur geskiedskrywers aan Marozia en haar moeder Theodora se heerskappy van Rome gekoppel. Vir meer as twee dekades het Marozia die Christendom met ‘n ysterhand regeer uit die Castel Sant Angelo op die Tiber. Hoewel sy nie haar eie naam onder haar edikte kon plaas nie, het haar pouslike pionne al haar opdragte stiptelik uitgevoer, met een of twee uitsonderings wat sommer gou met hul lewens geboet het.

A medieval artistic rendition of Pope Joan with a papal tiara. Illustrated Manuscript. Bibliothèque Nationale de France, circa 1560's. WIKIPEDIA.

2

Die Legende van Pous Johanna
Pous Johanna was ‘n legendariese vrou wat na bewering in die Middeleeue die pouslike amp beklee het. Die legende duik vir die eerste keer in 13de eeuse kronieke op en het groot gewildheid regoor Europe behaal. Die bestaan van Pous Johanna is honderde jare lank as historiese feit beskou.

Die vroegste vermelding daarvan verskyn in Jean de Mailly se kroniek Chronica Universalis Mettensis wat in die vroeë 13de eeu geskryf is. Etienne de Bourbon het die storie oorgeneem vir sy werk Seven Gifts of the Holy Ghost. Die verhaal het egter sy grootste invloed uitgeoefen toe dit in die 3de uitgawe van Martin van Opava se Chronicon Pontificum et Imperatorum later in die 13de eeu verskyn het.

3

Van toe af is die legende universeel as geloofwaardig beskou en kom onder meer voor in Bartolomeo Platina se Vitæ Pontificum Platinæ historici liber de vita Christi ac omnium pontificum qui hactenus ducenti fuere et XX van 1479. Giovanni Boccaccio vermeld haar in De Mulieribus Claris (1353) en die laat 14de eeuse uitgawe van die gids vir pelgrims aan Rome, Mirabilia Urbis Romae, meld dat die vrouepous in St Peter’s begrawe is.

4

Later het verskeie Protestantse skrywers op die legende voortborduur in hul stryd teen die Katolieke Kerk. Daar was byvoorbeeld A Present for a Papist: Or the Life and Death of Pope Joan, Plainly Proving Out of the Printed Copies, and Manscriptes of Popish Writers and Others, That a Woman called JOAN, Was Really POPE of ROME, ‘n werk wat volgens geskiedkundiges deur Alexander Cooke geskryf is.

Selfs in die 19de eeu was daar nog skrywers wat in die waarheid van die legende geglo het.

5

In ons era is Pous Johanna die onderwerp van verskeie boeke, ‘n gewilde verhoogstuk en minstens twee films.

6

Marozia
Marozia was die dogter van Konsul Theofilaktus, Graaf van Tuskulum, en Theodora, ‘n invloedryke Roomse senatrix. Hierdie tydperk is gekenmerk deur ‘n magsvakuum en onstabiliteit in Rome en die sentrale dele van Italië oor die algemeen. Daar was deurentydse wedywering om die pouslike amp deur Rome se mededingende aristokratiese families.

7

Theofilaktus en Theodora het onder die voorbokke getel wat die mag in Rome nagestrewe het deur familielede met geweld as Pous aangestel te kry. Theofilaktus se neef, die vorige Biskop van Portus, het die amp van Pous - Sergius III (904 – 911) - met behulp van Marozia se ma en pa verkry.

Pous Formosus is op 4 April 896 oorlede. Die volgende jaar het die berugte Kadawersinode plaasgevind, waarin beide Sergius en Theodora ‘n rol gespeel het. Formosus se lyk is uit die graf gehaal, in die pouslike regalia getooi, op ‘n troon geplaas en van ‘n lang reeks aanklagte beskuldig. Formosus is as onwaardig vir die pouslike amp bevind. Al sy uitsprake is ongeldig verklaar en sy lyk is in die Tiber gewerp.

Jean-Paul Laurens, Le Pape Formose et Étienne VII ("Pope Formosus and Stephen VII"), 1870. Note the latter is now called Pope Stephen VI.

8

Sergius III het Theofilaktus beloon met die amp van sacri palatii vestararius, hoofbeampte in beheer van die kerk se geldsake. Sergius se twee voorgangers, Pous Leo V en die Antipous Christopher is in 904 in die tronk verwurg. Op 15 jaar het Marozia ‘n liefdesverhouding aangeknoop met Pous Sergius III. Dis nie seker of haar seun, die latere Pous Johannes XI, sy kind of die kind van Marozia se eerste man Alberic was nie. In 909 trou Marozia met Alberic I, Hertog van Spoleto, en hul seun Alberic II word in 911 of 912 gebore. Pous Johannes X (914 – 928) was nou op die troon van Petrus. Sy grootste pretasie is dat hy die Moslems uit Italië verdryf het deur ‘n Christen alliansie wat die Bizantynse Ryk ingesluit het. By die Slag Van Garigliano is die Arabiese invallers heeltemal uitgewis.

Daarna egter, het sake begin skeefloop. Pous Johannes het Koning Berengar van Friuli in 915 as Koning van Italië en as Keiser van die Heilige Romeinse Ryk gekroon, maar in 923 is Berengar deur ‘n koalisie van Italiaanse prinse verslaan. Vervolgens rig Pous Johannes ‘n uitnodiging aan Hugo van Arles / Provence om die koning van Italië te word maar die plan is

9

gedoem deur ‘n mededinger, Rudolf II van Boergondië. Daarop volg nogmaals ‘n periode van anargie en wanorde. Marozia se man Alberic I sneuwel in 924 in ‘n geveg teen die magte van Pous Johannes X waarna sy met Guido, Markgraaf van Toskane, in die huwelik tree. Guido was ‘n opponent van Pous Johannes X wat volgens gerugte ook op ‘n stadium een van Marozia se minnaars was. Op hierdie tydstip het die aristokratiese grondeienaars van Rome al hoe meer beheer oor die tradisioneel kerklike burokrasie verkry ten spyte van die Pous se weerstand.

Die twis tussen Pous Johannes en Marozia het vererger nadat die pous sy broer Petrus as Hertog van Spoleto aangestel het as opvolger vir haar eerste man, Alberic. So ‘n uitbreiding van pouslike mag kon nie geduld word nie. Petrus het gevlug en die hulp van ‘n bende Magjare (Hongare) ingeroep, met wie se hulp hy in 926 na Rome teruggekeer het. In Toskane het Guido en Marozia egter hul geleentheid afgewag en die nodige voorbereidings getref deur troepe in die geheim in Rome te infiltreer. In 928 val hulle die Pous en sy broer Petrus in die Lateraanse Paleis aan. Petrus is net daar in stukke gekap terwyl Pous Johannes X in ‘n kerker in die Castel Sant Angelo gesmyt is en na bewering later versmoor is.
10

Hierdie staatsgreep het van Marozia die onbetwiste alleenheerser van Rome gemaak. Heel eerste het sy, as senatrix en patricia, ‘n nuwe pous aangestel: Leo VI wat die volgende Februarie oorlede is (aan natuurlike oorsake, word vermoed). Die volgende een, Stefanus VII, het ook nie lank gehou nie.

Hy was pous tot Maart 931 waarna Marozia haar oudste, twintigjarige seun, biskop van die kerk Santa Maria in Trastevere, as Pous Johannes XI aangestel het. Op ‘n stadium het Pous Johannes XI ernstig siek geword en daar is vir sy lewe gevrees. Marozia het toe ‘n bejaarde monnik as Pous aangestel. Toe Johannes XI herstel, het die hardkoppige ou man geweier om te bedank waarop Marozia hom in die tronk laat gooi en hy van honger dood is.

11

Marozia se man Guido van Toskane is toevallig ook in 929 oorlede – g’n mens weet waarvan nie. Daarop het sy ‘n huwelik met sy stiefbroer, die voorvermelde Hugo van Arles en Koning van Provence en Italië gereël. Hugo was reeds getroud maar Stefanus VII het sy huwelik nietig verklaar. Hugo wou beheer oor Rome verkry en Marozia se plan was om hom as Keiser van die Heilige Romeinse Ryk te laat kroon deur haar seun die Pous, waarop sy natuurlik Keiserin sou word.

12

Engraving depicting the wedding of Marozia and Hugh of Italy, from Francisco Bertolini, Historia de Roma.

Vir die huwelik het Hugo Rome in 932 met ‘n groot leërmag genader, wat hom die wantroue van die inwoners van Rome op die hals gehaal het. Eindelik is sy troepe buite Rome gelaat en het hy die stad met net ‘n groep lyfwagte betree. Marozia se tweede seun Alberic II het die opstand gelei wat tydens die huwelikseremonie losgebars het. Marozia en Hugo is in Castel Sant Angelo beleër. Hugo het daarin geslaag om te ontsnap maar Marozia is in gevangenisskap geplaas en is heel waarskynlik in 936 oorlede. Alberic II is as Prins en Senator van Rome gekroon. Pous Johannes XI is van alle administratiewe mag ontneem en is onder paleis-arres geplaas. Hy is net toegelaat om suiwer spirituele take te vervul.

13

http://favoladellabotte.blogspot.com/2011/01/castel-santangelo-la-cittadella-dei.html

Hugo het die volgende jaar en in 936 die stad Rome sonder sukses beleër, terwyl Alberic II se mag hoofsaaklik net tot Rome self beperk was. Pous Johannes XI is dieselfde jaar oorlede en is deur Pous Leo VI opgevolg. Marozia se seun Alberic II, Prins en Senator van al die Romeine, was die vader van Octaviano, wat in 955 Pous Johannes XII geword het. Ander afstammelinge van Marozia was die Pouse Benedictus VIII, Johannes XIX, Benedictus IX en die antipous Benedictus X.

14

Aanhaling uit WIKIPEDIA: List of Popes during the saeculum obscurum
           

Pope Sergius III (904–911), alleged lover of Marozia Pope Anastasius III (911–913) Pope Lando (913–914) Pope John X (914–928), alleged lover of Theodora (the mother), allegedly killed by Marozia Pope Leo VI (928–928) Pope Stephen VII (928–931) Pope John XI (931–935), son of Marozia, alleged son of Pope Sergius III Pope Leo VII (936–939) Pope Stephen VIII (939–942) Pope Marinus II (942–946) Pope Agapetus II (946–955) Pope John XII (955–963), grandson of Marozia, by her son Alberic II of Spoleto.

15

BIBLIOGRAFIE
BaddBob. Unholy Reign of Whores. http://thecargoculte.com/archives/1583 Falconieri, Tommaso di Carpegna. MAROZIA. Dizionario Biografico degli Italiani - Volume 70 (2007). http://www.treccani.it/enciclopedia/marozia_%28Dizionario-Biografico%29/ Gregorovius, Ferdinand. History of the City of Rome. Translated from the fourth German editionby Annie Hamilton. Vol. iii. London, George Bell & Sons, 1895. Rosa, Peter de. Vicars of Christ: The Dark Side of the Papacy. Corgi, 1990. The Most Celebrated Popess. http://pre-gebelin.blogspot.com/2012/08/the-mostcelebrated-popess.html The Popes in the Days of Feudal Anarchy. http://www.cristoraul.com/ENGLISH/History-ofthe-Popes/Feudal-Anarchy/12-JOHN-XI.html WIKIPEDIA artikels oor Marozia, Pous Johanna en die pouse Formosus, Leo VI, Stefanus VII, Johannes X, Johannes XI en Sergius III.

16

Sign up to vote on this title
UsefulNot useful