Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet
Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet
Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet
Ebook387 pages7 hours

Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Een oorlog, twee broers, een tragiese twis - die verskriklikste Afrikanerbroedertwis ooit. Meer as 'n honderd jaar ná die laaste skote in die Anglo-Boereoorlog geklap het, word genl. Christiaan de Wet steeds bewonder as onverbiddelike bittereinder, die held wat tot die einde toe volhard het. Sy jonger broer, Piet, word onthou as die joiner wat die wapen teen sy eie mense opgeneem het. In Broedertwis klim Albert Blake as't ware in dié twee broers se koppe. Hy probeer verstaan waarom hulle lynreg in stryd met mekaar gekom het. Watter rol het geloofsoortuigings, elkeen se eiesoortige karakter, hul vroue en ook oorlogtrauma in hul keuses gespeel? Teenoor die vurige en waaghalsige Christiaan staan sy temperamentele, andersdenkende jonger broer, Piet. Die een 'n spreekwoordelike valk, die ander 'n duif. Wie was reg? Christiaan, wat ten alle koste die vryheidstryd wou voer, of Piet, wat die einde aan die smart en lyding van die oorlog wou bring?
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 27, 2016
ISBN9780624075189
Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet
Author

Albert Blake

Albert Blake is die skrywer van die topverkoper Boereverraaier wat in die rolprent Verraaiers omskep is. In 2014 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir Boerekryger: 'n Seun se hoogste offer. Hy matrikuleer aan Grey-kollege in Bloemfontein waarna hy militêre opleiding aan die Valskermbataljon ondergaan. Blake is 'n praktiserende prokureur in Roodepoort.

Read more from Albert Blake

Related to Broedertwis

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Broedertwis

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Broedertwis - Albert Blake

    Albert Blake

    Broedertwis

    Bittereinder en joiner:

    Cristiaan en Piet de Wet

    TAFELBERG

    Voorwoord

    Die broedertwis wat tussen die befaamde Boeregeneraal Christiaan de Wet en sy jonger broer Piet uitgebreek het, is een van die mees dramatiese in die geskiedenis van Afrikaner­families. Dit is ’n tragedie met veel wyer implikasies as ’n blote familievete.

    Die verhaal van die De Wet-broers se twis is die verhaal van Afrikanerverraad tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-­1902. Dit bied ook ’n blik op die gevolge van die tweespalt op politieke en kerklike verdeeldheid ná die oorlog wat strek tot die naweë van die Rebellie van 1914.

    Volks- of landsverraad word universeel verafsku en gaan dikwels met groot emosie gepaard. Ook die verhaal van die De Wet-broers ontlok ná 12 dekades steeds emosies. In die sosiale media, veral webtuistes met regse politieke verbinte­nisse, word daar nog met bittere venyn na Piet de Wet se afvallige optrede verwys.¹

    Tydens die opbloei van Afrikanernasionalisme ná die oorlog is die verskynsel van verraad beskou as ’n tipiese stryd tussen goed en kwaad met die goeie, heldhaftige bittereinders aan die een kant en die slegte, lafhartige joiners aan die ander. Die tradisionele beskouing is dat Afrikanerverraad tydens die oorlog niks anders as verfoeilik was nie en terselfdertyd is die dapper bittereinderkrygers gemitologiseer.

    Maar was dit regtig so eenvoudig? Was Christiaan de Wet reg uit die aard van die feit dat hy ’n bittereinder was en Piet verkeerd omdat hy die stryd nie langer wou voortsit nie?

    In Albert Grundlingh se baanbrekerswerk Die Hendsoppers en Joiners: Die rasionaal en verskynsel van verraad (1979) is die kwessie vir die eerste keer meer ewewigtig benader.²

    Kort ná die 100-jarige herdenking van die oorlog het heel ander stemme weer opgeklink, al was dit soms geïsoleerd, wat onder meer gevra het dat Piet de Wet in die Afrikaner­geskiedenis gerehabiliteer word. Volgens hierdie uitgangs­punt moet hy in dieselfde liga as liberale Afrikaners soos Bram Fischer en Beyers Naudé geplaas word.³

    Om die saak nugter te ondersoek moet sowel die bitter­einders as die afvalliges gestroop word van die talle mites wat hulle omhul. Die heilige kleed van superwese wat om die bittereinders gehang is, moet verwyder word en hulle moet in ’n nugter lig beskou word. Eweneens moet die af­valliges blootgelê word vir wat hulle werklik was. Dalk is die sêding dat daar in elke held ’n bietjie skurk is en in elke skurk iets van ’n held, hier gepas.

    ’n Ondersoek na Afrikanerverraad tydens die Anglo-Boere­oorlog is nie eenvoudig nie en bring sy eie problematiek. In onlangse tye is die vraag byvoorbeeld meermale gevra of die bittereinders se volharding met die stryd geregverdig was in die lig van die geweldige verwoesting en groot lewensverlies wat daardeur veroorsaak is. Was die prys vir vryheid en onafhanklikheid nie dalk te hoog nie?

    Hieruit volg die vraag of dit verstaanbaar en selfs aanvaar­baar is dat Piet de Wet die vryheidstryd die rug toegekeer het en aktief probeer het om ’n einde aan die verskriklike lyding en verwoesting te maak. Is die optrede van die hendsoppers en joiners nie dalk nog altyd te nougeset beoordeel nie?

    In hierdie boek word Piet se optrede en die vraag of sy afvallige optrede onder die omstandighede moontlik gereg­verdig was, onder meer aan die hand van die volgende drie probleemstellings ondersoek:

    Eerstens is dit ’n suiwer regsvraag of hy ingevolge die wet­gewing en gemenereg van die Vrystaatse republiek hoog­verraad gepleeg het. Enige gevolgtrekking in dié verband moet volgens die heersende juridiese beginsels van daardie tyd gemaak word.

    Tweedens moet Piet se afvallige optrede aan die morele norme van die Afrikanergemeenskap tydens die oorlog gemeet word. Die vraag is: Wat het die breë Afrikanergemeen­skap van daardie tyd as verraad beskou? Een van die groot probleme in die vertolking van ons land se geskiedenis is dat oordele oor die verlede op grond van vandag se norme gevel word. ’n Verskynsel soos verraad moet gevolglik be­oordeel word binne die historiese konteks waarin dit plaas­gevind het.

    Derdens gaan daar ook na die twee broers se psigiese mon­derings gekyk word om vas te stel watter rol dit in hul onderskeie besluite tydens die oorlog gespeel het. Kwessies soos die spanning tussen die wil van die staat en individuele gewetensbesware kom hier ter sprake. Het eie- en gesinsbelang byvoorbeeld by Piet de Wet swaarder geweeg as volksbelang en was dit andersom by sy broer?

    Die broers het hul uiteenlopende beskouings oor die voort­setting van die Anglo-Boereoorlog en deelname aan die Rebellie vanuit hul geloof geregverdig. Die vraag is of hul geloofsoortuigings in dié verband fundamentalisties was.

    Om hierdie soort vrae sinvol te beantwoord moet ’n ewe­wigtige begrip nagestreef word van die geweldige keuses waarmee die individue tydens die oorlog gekonfronteer is. Mense se gedrag in ’n oorlogsituasie is allesbehalwe eenvou­dig. Om vas te stel waarom een broer ’n vurige republi­kein­se patriot gebly het terwyl die ander daardie ideaal volkome die rug toegekeer het, vra ’n psigohistoriese analise.

    Dit het in onlangse tye al hoe algemener geword om historiese figure vanuit die sielkunde te analiseer om die mens agter die legende te probeer blootlê. Psigiese dryfkragte soos sekere waardestelsels ten opsigte van patriotisme en nasio­nalisme wat by die een broer sterk aanwesig was, het vir die ander minder beteken. Daar gaan ook ondersoek ingestel word na die mate waarin oorlogstrauma hul denkwyse en uiteindelike optrede kon beïnvloed het.

    Min psigohistoriese analises oor figure uit die betrokke tyd­vak is nog gedoen. Riana Henning se doktorale proefskrif, Psigobiografiese persoonlikheidsbeskrywing van generaal Christiaan de Wet (2010), is die enigste in sy soort oor een van die broers. In sy doktorale proefskrif, The Psychological Impact of Guerrilla Warfare on the Boer Forces during the Anglo-Boer War (2004), het Andrew Mcleod ook baanbrekerswerk gedoen oor die sielkundige impak wat die guer­rillaoorlog op Boerekrygers gehad het. Die werk is gebaseer op ’n multidissiplinêre studie wat sowel militêre geskiedenis as sielkundige teorieë insluit. As ’n gevallestudie het Mcleod kortliks ondersoek ingestel na die uitwerking wat die guerrillaoorlog op Christaan de Wet se gemoed gehad het.

    Ek gaan my lyf egter nie psigiater probeer hou nie en ook waak teen ’n oorvereenvoudigde vertolking van menslike gedrag. Omdat wetenskaplike geskiedskrywing en ’n benade­ring vanuit die sielkunde nie noodwendig dieselfde oogmerke het nie, is daar ’n onderliggende spanning tussen die dissi­plines. Ek neem gevolglik deeglik kennis van die waarde van die beskikbare sielkundige teorieë rondom psigohistoriese analises, maar ook die moontlike tekortkominge daarvan. Die gevestigde geskiedkundige navorsingsmetodes word steeds as basis vir hierdie werk gebruik.

    Oor die breë verskynsel van Afrikaner-afvalligheid tydens die oorlog bly Albert Grundlingh se gemelde boek steeds die toonaangewende werk. Grundlingh het vir die eerste keer omvattend lig gewerp op Piet de Wet se afvallige optrede in die oorlog.

    Meer onlangs het John Boje ’n belangrike bydrae gelewer in sy doktorale proefskrif, Winburg’s War: An Appraisal of the Anglo-Boer War as It Was Experienced by the People of a Free State District (2009), waarin hy afvalligheid teenoor die republikeinse saak in ’n bepaalde gebied ondersoek het. In Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog (2010) het ek weer die verskynsel van verraaiers wat deur die Boeremagte tereggestel is, ondersoek.

    Ná soveel jare is dit onvermydelik dat belangrike inligting oor die De Wet-broedertwis verlore sou geraak het. Tog is genoeg inligting beskikbaar om ’n basiese geheelbeeld te vorm. Terwyl ’n magdom geskrifte oor Christiaan de Wet oor die jare verskyn het, is dieselfde ongelukkig nie die geval met sy broer nie. Piet sou altyd in die skaduwee van sy be­roemde broer staan. Die doel is egter nie om volledige lewens­­beskrywings van die twee broers te gee nie en ook nie van al hul krygsaktiwiteite nie, behalwe in soverre dit die tema van hul broedertwis toelig.

    Christiaan de Wet is in die geskiedenis grotendeels in ’n mitologiese figuur omskep, wat dit vir die historikus moeilik maak om vas te stel wie hy werklik as mens was. Die meeste werke openbaar ’n onkritiese bewondering vir hom. Sy oorlogsherinneringe, Die stryd tussen Boer en Brit, het in 1902 verskyn, is in verskeie tale vertaal en word steeds herdruk. Ongeag sekere feitelike gebreke daarin bly dit ’n klassieke en onontbeerlike werk oor die oorlog.⁴ Dit bied ook belang­rike insig in sy denke.

    ’n Gebrek aan geskrifte oor Piet de Wet se optrede en sy eie oorlogsherinneringe maak dit moeilik om agter die ware man te kom. Volgens ’n kleindogter van hom het hy sy herin­­neringe wel op skrif gestel, maar het een van sy seuns, ook Piet, destyds ’n prokureur in Lindley, die manuskrip verbrand.⁵ Die onderhoude wat ek met veral Piet sr. se nageslag gevoer het, was wel in vele opsigte ’n insiggewende belewenis. Van die kleinkinders wat ek kon opspoor, is die laaste geslag wat hy en sy vrou nog geken het. Van hulle moes in hul kinderjare nog in onsimpatieke gemeenskappe verguising weens hul oupa se optrede verduur.

    Afrikaners wat die Anglo-Boereoorlog deurgemaak het, het ná al die swaarkry van die oorlog klaarblyklik nie maklik oor die onsmaaklike onderwerp van verraad geskryf nie. Dit is nietemin merkwaardig dat daar nog geen omvattende werk verskyn het wat die broedertwis tussen Christiaan en Piet de Wet ontleed nie. Dalk was dit in die verlede ’n te sensitiewe onderwerp. Terwyl ek navorsing vir hierdie boek gedoen het, is ek ook gereeld gevra waarom ek my besig hou met om­strede en pynlike onderwerpe uit die Afrikaner se verlede.

    Dit is nie vreemd dat sekere Afrikaners en ander van nega­tiewe gebeure in die verlede wegskram nie. Reeds in 1966 het N.P. van Wyk Louw, wat allerweë as die grootste Afrikaanse letterkundige van sy tyd beskou word, hom met sy drama Die pluimsaad waai ver die gramskap van sekere Afri­kaners, onder wie die premier, dr. Hendrik Verwoerd, op die hals gehaal. Die drama het onder meer gegaan oor genl. Piet Cronjé se oorgawe met sowat 4 000 burgers by Paardeberg in die Anglo-Boereoorlog. Een van die karakters in die drama is op die persoon van Piet de Wet geskoei.

    Louw is beskuldig van negatiwistiese défaitisme en sieklike anti-heroïsme wat hom meester wil maak van ’n siek Westerse gemeenskap.⁶ Louw was gebelg omdat sy Afrikanerskap in twyfel getrek is en het hom aanvanklik uit die polemiek gehou. Later het hy hom soos volg uitgespreek: As ons vir ’n volk net die mooie in homself voorhou, kweek ons die sonde van hovaardy in hom aan; hy kan begin glo dat hy net ‘die mooie’ in hom dra!

    Pogings om die ongemaklike tragedies van die verlede te verstaan kan help om tot ’n beter begrip van die hede te kom. Izak de Villiers, eertydse redakteur van Rapport, het oor dié onderwerp gesê: Konfronteer jou duiwels, maar soek ook jou engele.

    Ons moet juis versigtig wees om nie terug te keer na ’n verdedigende en verheerlikte vertolking van die verlede soos in die Afrikanernasionalisme van ouds nie. Dit is ’n fout wat die ANC-regering tans herhaal deur ’n politieke agenda in te sleep by sy vertolking van die geskiedenis. In die weten­skaplike geskiedskrywing word die waarheid nagestreef en is daar nie plek vir verskuilde agendas nie.

    Die doel van wetenskaplike geskiedskrywing is nie om ’n verskynsel soos verraad te veroordeel of te regverdig nie, maar om dit te verklaar. Dit is dus nodig om die vraagstuk vanuit verskillende perspektiewe en sonder vooroordele te ondersoek.

    Niks in die verlede behoort te heilig te wees om te ontleed nie. ’n Volk of ’n gemeenskap word nie net gemeet aan dit wat hy wil onthou nie, maar ook aan dit wat hy wil vergeet.*

    * Nota: Om verwarring uit te skakel word deurgaans na die oorspronklike plekname verwys soos dit bekend gestaan het in die tydperk waarin die gebeure afgespeel het, met die verafrikaanste spelling daarvan. Alle aanhalings word ongeredigeer weergegee – vir leesbaarheid is die talle spel- en taalfoute in die aanhalings nie telkens aangedui nie. Die begrippe Afrikaner en Boer word in hierdie werk as sinonieme gebruik. In hierdie werk word Anglo-Boereoorlog as benaming vir die oorlog gebruik.

    DEEL 1 | Die duif en die valk

    HOOFSTUK 1 | Twee broers: eerste indrukke

    Voordat die Anglo-Boereoorlog Christiaan de Wet in ’n held omskep het en sy broer Piet in ’n verraaier, was hulle maar net twee broers – twee Vrystaatse broers wat dieselfde vryheidsideaal vir die Boererepublieke gekoester het en al twee in die oorlog sou gaan veg.

    Toe mense nog nie vooropgestelde idees oor die twee broers begin vorm het nie, het Nico Hofmeyr, die amptelike historikus van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) wat die kommando’s aan die beginfase van die oorlog vergesel het, hulle soos volg beskryf:

    Die man wat die meeste aandag trek en die oog dadelik vang, is beslis die jonger broer: Piet de Wet. Hy is ruim ses voet drie duim lank, sou ek skat – ’n ware Saul onder die burgers. Hy is ook in dié opsig ’n Saul: hy is een van die aantreklikste Boere wat ek al ooit gesien het … Sy vel is besonder wit vir ’n Afrikaner … Sy gestalte is pragtig, hoewel moontlik ’n bietjie te geset vir groot inspanning en beweeglikheid … Sy hele wese verkondig sagtheid, teerheid, gevoeligheid, hartlikheid en simpa­tie … Hy is ’n man om te bemin en om bemin te word – ’n man wat geen vrees inboesem nie, maar harte steel.

    Maar let op die ouer, sterk gespierde en donkerder broer, Christiaan de Wet, met sy kort, breë skouers. Hy is hoe­genaamd nie iemand wat dadelik die oog vang nie … As aantreklik kan hy nie beskryf word nie … Wanneer hy begin praat, dan hoor jy meteens dat hy lispel … Hy is baie kalm, beskeie, natuurlik in sy voorkoms en in sy hou­ding, maar as hy sy oordeel oor iets deel, dan besef jy dadelik dat daar oortuiging en selfvertroue in die man gesetel is. Wanneer hy wegstap, let jy op dat die man van yster en staal gemaak is: sterk gebou en terselfdertyd soepel, vinnig en vurig is … Onbekende talente sluimer in die onaansienlike, kort man. Hy is bestem om al die ander offisiere wat daar teenwoordig was, ver te oortref.¹

    Hofmeyr se vergelyking van die twee broers herinner aan die verskil tussen die simboliese duif en valk. Net die tyd sou leer hoeveel waarheid daar in sy vroeë gewaarwordings gesteek het.

    Christiaan de Wet is in sy leeftyd reeds só gemitologiseer dat die historikus voor ’n formidabele taak gestel word om die mens agter die heldefiguur te ontdek. Piet de Wet is weer so verguis dat dit eweneens ’n uitdaging is om vas te stel wie hy werklik was.

    Daar word dikwels gesê eerste indrukke is blywend, en soos afgelei kan word uit Hofmeyr se opmerkings was die De Wet-broers van die kaliber mense wat sterk eerste indrukke gemaak het. Wat weet ons op die oppervlak van dié twee broers? Watter eerste indrukke het hulle op ander gemaak en wat daarvan sou blywend wees?

    Piet was die aantreklike een van die twee broers. Hy was for­ser gebou en het bykans ’n kop bokant Christiaan uitge­troon. In die Britse pers is na hom as ’n handsome man verwys.² Hoewel daar nie getuienis gevind kon word dat Piet ’n rokjagter was nie, is daar aanduidings dat hy waar­skynlik baie sjarmant was. Hy was netjies op sy voorkoms en kon boonop by tye baie hoflik wees.³

    Enkele dae ná Piet se oorgawe aan die einde van Julie 1900 het Britse offisiere hom by ’n sportbyeenkoms van die besettingsmag in Kroonstad onthaal. In ’n berig in die Austra­liese koerant Truth word beskryf hoe hy daar die middel­punt van vroulike aandag was: Piet was there in the officers’ enclosure thoroughly enjoying himself with several plump nurses who were asking him for his autograph.⁴ Sy opspraakwekkende oorgawe kort tevore het sekerlik bygedra tot sy sterstatus en die verslaggewer het darem ook genoem dat al die vroulike aandag Piet uiteindelik ongemaklik gemaak het.

    In dieselfde tyd beïndruk hy ook ’n vroulike lid van die Britse hoëlui, lady Maud Rolleston, in só ’n mate dat sy ’n redelike deel van haar gewilde boek Yeoman Service: Being the Diary of the Wife of an Imperial Yeomanry Officer aan hom wy. In die boek, wat tydens die oorlog verskyn het, beskryf sy onder meer haar eerste gewaarwordinge van die Boeregeneraal by ’n aandete in Kroonstad: … a tall large man, by long the best countenance I ever saw on any Boer. He wore a suit of grey clothes with a coat buttoning up to the neck, and his hair was brushed straight back from his forehead. He had only a small beard, and was really a finelooking man.

    Agter die hoflike Piet het egter ook ’n temperamentele mens geskuil wat by tye in ’n diepe neerslagtigheid kon verval. F.W. Reitz, voormalige Vrystaatse president, het Piet voor die oorlog goed geken en hom toe reeds swartgallig gevind.

    Oskar Hintrager, ’n Duitse vrywilliger wat aan Boerekant geveg het, het Piet met hul eerste ontmoeting as die effens nukkerige temperamentlose broer van Christiaan de Wet beskryf. Dit is nie heeltemal duidelik wat Hintrager met die woord temperamentlose bedoel nie, maar moontlik dat Piet nie ’n vurige geaardheid (soos sy broer) gehad het nie.

    Nietemin is daar genoeg aanduidings dat Piet by tye buie­rig kon wees. Sy nukkerigheid was moontlik ’n rede waarom hy nie uit die staanspoor by almal aansluiting gevind het nie.

    De Wet het kragtige trekke – ’n gesig wat een en al vol plooie is, vol forse, ingebrande rooi lyne, ’n platgedrukte neus en ’n harde, dun mond gee aan sy gesig iets wreeds.

    Só het ’n Nederlandse verslaggewer Christiaan kort ná die oorlog beskryf. De Wet was ’n pretensielose mens wat klaar­blyklik nie veel vir sy voorkoms omgegee het nie. By tye het hy sy verslonste voorkoms gekombineer met ’n taktlose en kortaf manier wat ’n ongunstige eerste indruk kon maak.⁹ Volgens Frederik Rompel sou ’n mens Christiaan weens sy klein gestalte en ou klere nie aansien as dat hy die beroemde generaal De Wet is nie.¹⁰

    Voordat die Transvaalse telegrafis Philip Pienaar Christiaan in sy boek With Steyn and De Wet met lof besing, beskryf hy die ongunstige indruk wat die generaal met hul eerste ontmoeting op hom gemaak het: The chief then introduced me to De Wet. Compared with Louis Botha, or almost any other of our generals, De Wet presented but a sorry sight. His manners are uncouth, and his dress careless to a degree. His tactlessness, abrupt speech, and his habit of thrusting his tongue against his palate at every syllable, do not lessen his undeniable unattractiveness. But De Wet, if he lacks culture, certainly has abundance of shrewdness, and is not without dignity at times.¹¹

    Tog het Christiaan se ruwe voorkoms vir baie ’n aantrekkingskrag gehad. Victor Pohl was ’n jong seun toe hy die generaal ontmoet het: His face was rugged, the index to a personality of unusual strength, but calm and with much kind­liness of expression. Yet there was in him a smouldering force, of which everyone who came into his presence, whether friend or foe, was immediately aware. And although I was unable at the time to analyse my impressions, I felt I was looking at a great man.¹²

    Emily Hobhouse was ewe beïndruk en skryf in ’n brief aan haar tante: De Wet is impressive. His face is enigmatic …¹³

    Dit was veral Christiaan se vasberade en deurdringende blik wat die oorgrote meerderheid mense met hul eerste ont­moeting opgeval en selfs betower het. Sy relatief klein oë het effens vernou na die kante en aan Oosterse gelaatstrekke herinner. Lukas Coetzer,’n latere adjudant van Christiaan, het hom voor die oorlog reeds as jong seun leer ken. Hy skryf wat ’n mens dadelik opgeval het, was die lewendige swart oë met altyd iets ondeunds daarin.¹⁴

    Tydens die geveg by Nicholsonsnek aan die begin van die oorlog, toe Christiaan nog nie bekend was nie, het hy ook reeds op Deneys Reitz, die latere skrywer en kabinetslid in die Smuts-regering, ’n indruk gemaak. I saw him here for the first time as he made his way from point to point during the action, and I well remember his fierce eyes and keen determined face, skryf Reitz in Commando, sy bekende werk oor die oorlog.¹⁵

    Dit was nie in Christiaan se aard om vriend of vyand met ’n eerste kennismaking te probeer beïndruk nie. Hy was ook nooit besonder geliefd onder die burgers nie en die meeste het hom gevrees. Waarskynlik het dit hom nie veel geskeel nie. Hy het die vermoë gehad om onmiddellike gesag af te dwing en ongeag die burgers se gevoel teenoor hom as mens het hy vertroue by hulle ingeboesem.

    Kmdt. Chris van Niekerk, latere president van die Unie­parlement se senaat, se mening is waarskynlik verteenwoor­digend van baie wat met Christiaan te doen gehad het: Generaal de Wet het ek gevrees. Die man het my gehipnotiseer.¹⁶

    Eerste indrukke verklap veel, maar ons weet ook die vere maak nie die voël nie. Om groter insig te kry in die persoonlikhede van Christiaan en Piet de Wet, hul menswees, hul waardes en dryfvere, moet eerstens teruggegaan word na hul jeugjare en die dinge wat hulle toe gevorm het. Ondersoek moet ingestel word na onder meer die moontlike sielkundige gevolge wat die blootstelling aan die trauma van vroeëre oorloë op die twee mans kon gehad het.

    ’n Psigohistoriese en psigobiografiese analise van hul lewe kort voor en tydens die oorlog sal help om verdere lig te werp op die dryfkragte agter hul latere uiteenlopende optredes.

    HOOFSTUK 2 | Seuns van die veld

    Enigeen wat die Suidoos-Vrystaat goed ken, sal weet dié deel van ons land het ’n klimaat wat dikwels na uiterstes neig. Die somermaande is warm, terwyl die winters, aangehelp deur ysige winde vanaf die Malutiberge, bitter koud kan wees.

    In die ooste is dit bergagtig, van waar die gebied na die weste afplat totdat dit die kenmerkende Vrystaatse plat oop­tes vorm. Christiaan en Piet het hul jeugjare in dié soort omgewing deurgebring. In die tweede helfte van die 19de eeu was dit nog grootliks ’n woeste en ongetemde pionierswêreld waar die mense dikwels ’n oorlewingsbestaan moes voer.

    Die gebied is geteister deur lang tye van ernstige droogte en sprinkaanplae. Boonop was daar altyd die moontlikheid van konflik met die Basotho. Die nabye oosgrens met die Basotho het vir die Vrystaatse boere ’n konstante gevaar ingehou weens strooptogte. Uiteindelik het dit in die 1850’s en 1860’s op drie oorloë in die Suidoos-Vrystaat uitgeloop. Die jong Vrystaatse republiek het boonop met ’n leë staatskas gesukkel.¹

    Die De Wet-broers is die sesde geslag van die stamvader Jacobus de Wet wat in 1693 vanuit Nederland in die Kaap aangekom het en in die tyd van goewerneur Simon van der Stel in diens van die Vereenighde Oostindische Compagnie (VOC) was. Toe die vryburgers later in opstand kom, het De Wet hul kant gekies en ’n boer geword. ’n Eeu en ’n half later was dié stamvader se nageslag – onder wie Christiaan en Piet se pa – wyd oor die suidpunt van Afrika versprei. Die broers se ouers was nie Voortrekkers soos soms beweer word nie, maar het ná die Groot Trek van die Kaapkolonie na die Suidoos-Vrystaat verhuis.²

    Die lewensverhaal van Christiaan de Wet sou nou verweef wees met die geskiedenis van die Vrystaat. Die Vrystaat het op 23 Februarie 1854 ’n onafhanklike republiek geword. Op 7 Oktober daardie jaar sien Christiaan Rudolph de Wet sy eerste lewenslig in ’n hartbeeshuisie op die plaas Leeukop in die Smithfield-distrik.³ J.D. Kestell het die eenvoud van sy geboorteplek só beskryf: Dit was ’n armoedige woninkie, wat uit niks anders bestaan het nie as ’n spits dak, wat op die grond gerus het. Daar was geen mure nie. Seer tenger was die huisie saamgestel met latte en gedek met tamboekiesgras.

    Hoe woes en ongerep die gebied nog was, blyk uit ’n vertel­ling van Christiaan oor die gevare van wilde diere in daardie tyd. Die boere moes die verwoesting verduur wat veroorsaak is wanneer troppe wild, veral springbokke en wildebeeste, by duisende oor die plase getrek het. ’n Jong Christiaan het die angs beleef van ’n trop wildebeeste wat hul hartbees­huisie byna platgetrap het. ’n Beseerde wildebees het die huisie blind van die pyn binnegedring. Was dit nie vir die honde wat hom van kant gemaak het nie, kon dit noodlottige gevolge vir die gesin ingehou het. Om in sulke veeleisende omstandighede groot te word het gewoonlik ’n besondere ge­hardheid gekweek. In daardie harde wêreld is die jong De Wet-broers geslyp.

    Christiaan was die sesde kind van Jacobus Ignatius en Aletta Susanna Margaretha de Wet (gebore Strydom) se 14 kinders. Die oorlewingskoers van suigelinge in die groot Boeregesinne van daardie era was nie baie hoog nie. Twee van die 14 kinders se besonderhede kon nie gevind word nie, wat daarop dui dat hulle oorlede is voordat hulle gedoop is.

    Op vyfjarige leeftyd het Christiaan die eerste van talle ver­huisings in sy lewe beleef toe sy pa na die plaas Kalkfontein naby die teenswoordige Reddersburg trek. Sy broer Pieter Daniël (Piet) de Wet is sewe jaar later, op 18 Augustus 1861, op die plaas Nuwejaarsfontein in die omgewing van die huidige Dewetsdorp gebore. Die gesin het kort tevore van Kalkfontein daarheen verhuis. Piet was die De Wets se negende kind. (Dewetsdorp is in 1880 gestig en is genoem na Christiaan en Piet se pa, wat ’n veldkornet van die gebied was.)

    Die broers het ’n sterk band met hul ma gehad, al is sy oorlede toe hulle nog jonk was. Christiaan het in sy herinne­ringe vertel hy was in Mei 1870 in die veld op sy oudste broer, Jan, se plaas in die verowerde gebied aan die Basoetoland-­grens langs die Caledonrivier toe dié op sy perd aangejaag kom en hom die tyding gee dat hul ma met die geboorte van ’n bababoetie oorlede is. Piet was toe maar nege jaar oud. Hy sou tydens die Anglo-Boereoorlog ’n stuk grond waarop hy ’n vee-onderneming bedryf het, Alettasdraai noem, na sy ma.

    Hul pa trou kort ná hul se ma se dood met Lasija Christina Kruger, maar geen inligting oor die broers se verhouding met hul stiefma kon gevind word nie.

    Dit is moeilik om te bepaal in watter mate die broers se verhouding met hul pa ’n invloed op hul latere lewe gehad het. Wat ons wel weet, is dat Jacobus de Wet Christiaan bo sy ouer seuns as sy voorman aangestel het.⁸ Of hy sy pa se oogappel was en of dit daarop dui dat Christiaan reeds in sy jeugjare ’n sterk persoonlikheid gehad het, is ’n ope vraag.

    Die De Wet-broers was kinders van die veld. Van skoolgaan was daar nie veel sprake nie en die meeste van hul klein­tyd is in beslag geneem deur hul pligte as skaapwag­ters. Die intieme kennis van die veld wat hulle daarmee opgedoen het, sou tydens die Anglo-Boereoorlog van onmeetbare waarde wees.

    Die enigste vertelling van Piet oor sy kinderjare wat opgespoor kon word, was in ’n onderhoud met ’n Britse joer­nalis in ’n Kaapse hotel in Februarie 1901: "When I was eight years old, my father would send me to fetch the cattle in from the veldt; if I didn’t know where they were I must go and find them. No one thought

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1