Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Eindspel
Eindspel
Eindspel
Ebook523 pages9 hours

Eindspel

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

Ellie gewaar hulle in die truspieëltjie langs die orrel, die oomblik toe hulle die kerk binnekom. Sy herken hulle sonder dat sy hulle al ooit gesien het. ’n Oomblik lank is dit asof haar lyf ontspan. Onbewustelik het sy dalk tog verwag dat iemand haar in ’n stadium sal kom soek. Sy kyk hoe albei jong mans hul sonbrille teen hul voorkoppe opskuif, rondkyk en dan in die agterste bank gaan sit. Die dag toe Ellie McKenna haar huis in die Kaap verhuur het, haar motor gepak en begin ry het, het sy nie ’n plan gehad nie. Al wat sy geweet het, is dat sy eers moet wegkom. Sedert die aand toe haar pa by ’n padblokkade doodgeskiet is, was daar nog nie tyd om terug te staan en behoorlik oor alles te dink nie. Daar was werk om te doen. Sy wou aanvanklik uit die polisiediens bedank, maar op die ou end het sy ingewillig om eers net vir ses maande met mediese verlof te gaan. Nou is dit amper vyf maande later en sy stel die besluit daagliks uit. Sy hou van haar nuwe lewe op die platteland; die huis wat sy op die plaas huur, pas haar. Sy het ’n leidam waarin sy swem en twee groot bome waar sy ’n hangmat gespan het. Sommige aande help sy in een van die plaaslike kuierplekke en nou en dan tel sy haar kitaar op en sing laataand vir die vasbyters. Tot haar eie verbasing help sy ook nog sommer hier en daar op ’n Sondag uit as die kerk se orrelis nie kan speel nie. Daar is ’n verleidelike eenvoud aan haar lewe hier agter die Langeberge. Sy vul haar dae en die meeste aande met alledaagse dinge. Dis net wanneer sy nie kan slaap nie dat sy in die spaarkamer gaan sit, daar waar haar kaarte, diagramme en lyste teen die mure opgeplak is. Van name, datums, verbintenisse. Êrens in die web is die naam van haar pa se moordenaar. Sy moet net hard genoeg soek. Dit is die enigste kontak wat sy met haar vorige wêreld het. Die lyste en die rugsak met klere wat sy in die ou murasie weggesteek het. Sy is nie seker waarom sy dit gedoen het nie, maar sy weet sy het daarna effe rustiger geslaap. Terwyl sy hulle in die truspieëltjie langs die orrel dophou, weet sy dit was vir hierdie dag. En sy weet ook sy sal moet gaan uitvind wie haar soek, en waarom.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 17, 2017
ISBN9780624075318
Eindspel
Author

Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse is in 1958 in die Kalahari gebore en het op Worcester grootgeword. Haar bekendste boeke is Met ander woorde (2006), Vier seisoene kind (2010) en Dubbelspel (2014). Sy het haar MA-graad in skeppende skryfwerk aan die UK voltooi, en daaruit spruit haar roman ’n Klein lewe (2012). Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland.

Read more from Wilna Adriaanse

Related to Eindspel

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Eindspel

Rating: 4.5 out of 5 stars
4.5/5

2 ratings1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    Baie goed geskryf, genoeg spanning, goed nagevors. Kan beslis aanbeveel. Lees eerste Dubbelspel, anders gaan jy verlore voel.

Book preview

Eindspel - Wilna Adriaanse

Eindspel

WILNA ADRIAANSE

Tafelberg

Vir al die lojale lesers

Proloog

Dis skemeraand toe Ellie die dorpie inry. Ou huise en vrugteboorde omsoom die breë straat. ’n Hond hardloop ’n entjie voor haar verby. Twee bejaardes staan oor ’n tuinhekkie met mekaar en gesels.

Die bordjie wat sê Pub is klein en dis eerder die paar gekleurde liggies op die voorstoep wat haar aandag trek. Sy stop, klim uit en stap binne. ’n Hele paar tafels sit al vol mense. Ellie stap tot by die lang kroegtoonbank en gaan sit op die verste stoeltjie teen die muur.

Die man wat opkyk, laat haar aan Joe dink. Hy is net jonger, maar sy hare is ook aan die yl word en hy is net so groot en sterk gebou. Aan sy sy hang ook ’n vadoek.

Wat sal dit wees?

Ellie kyk na die rye bottels teen die muur. Sy huiwer by elk, oorweeg dit. As daar al ooit ’n goeie tyd was, is dit nou.

’n Whiskey en ys. Sy hoef ook nie alles gelyk te doen nie. Sy het die wêreld se tyd om ’n ander smaak te ontwikkel.

Hy skink vir haar en toe hy dit voor haar neersit, bly staan hy.

My geld was op witwyn en ek is selde verkeerd.

Ellie glimlag en skud haar kop. Nie vanaand nie.

Lang pad agter jou of voor jou?

Sy neem ’n sluk. Laat sak haar skouers en haal diep asem. Albei.

Hy steek sy hand uit. Wynand Bruwer.

Eleanor.

Sy het nie ’n plek gesoek nie. Ook nie juis die regte pad nie. Net ’n pad. Sy weet nie waarom sy die uitdraai gevat het nie. Dalk het die plek háár gevind, dink sy toe sy voor die huis staan. Dis op ’n hoogtetjie. Net hoog genoeg dat sy ’n paar kilometer verder die dorp kan sien, en as sy omdraai, flank die berg haar rug.

Daar is ’n grasperkie met ’n groot akkerboom en ’n leidam met modderwater. Waar die grasperk ophou, het iemand beddings gemaak wat uit die leidam natgelei word. Netjiese sementvoortjies gelei die water. Die beddings is nou kaal, behalwe vir hier en daar ’n onkruid of ’n spinasieplant wat saadskiet.

Sy gaan sit op die swaai wat aan die jakaranda hang en wieg liggies heen en weer. Die jong paartjie wat voor haar in die huis gewoon het, het blykbaar ’n kind gehad.

Sy het vir die eienaar gesê sy soek ’n plek vir ses maande. Dalk vat sy anderdag weer die pad, maar nou voel dit vir haar of sy eers ’n bietjie hier by die jakaranda en die leidam moet vertoef.

As sy geduldig is, haal sy haarself dalk hier in.

Hoofstuk 1

Ellie gewaar hulle in die truspieëltjie langs die orrel, die oomblik toe hulle by die kerk inkom. Sy herken hulle sonder dat sy hulle al ooit gesien het. ’n Oomblik lank is dit asof haar lyf ontspan. Onbewustelik het sy dalk tog verwag dat iemand haar in ’n stadium sal kom soek. Sy kyk hoe albei jong mans hul sonbrille teen hulle voorkoppe opskuif, rondkyk en dan in die agterste bank gaan sit.

Marius steek vas asof hy sy woorde vergeet het, maar gaan dan voort met ’n laaste boodskap. Daarna kondig hy die slotgesang aan.

Die orrelpype teen die muur voor haar begin blaas en dan klink die eerste klanke op. Die gemeente se stemme en die musiek ontmoet mekaar êrens agter haar.

Sy hou die twee in die spieëltjie dop terwyl sy speel. Sy dink aan die afgelope maand se nuusberigte. ’n Vrag perlemoen wat op die N1 onderskep is. Twee vermeende renosterstropers in Limpopo doodgeskiet. ’n Skietery by ’n dwelmbaas se huis op die Kaapse Vlakte. Polisiehoof in hegtenis geneem, ’n ander een word ondersoek. Die gewone weeklikse sirkus.

Hulle staan saam met die ander mense, maar sing nie. Die een kyk rond terwyl die ander een met sy selfoon doenig is.

Ellie is verlig toe sy die laaste note speel. Marius spreek die seën uit, die gemeente antwoord met ’n laaste Amen voor hulle uitstap. Die twee agter in die kerk kyk nou openlik na haar en sy skakel die orrel af en maak dit toe. Met haar handsak oor die skouer, begin sy by die trappies van die orrelgalery afgaan. Toe sy skrams omkyk, sien sy hoe hulle omdraai en by die kerk se voordeur uitstap. Sy kyk op haar horlosie. As hulle draf, het sy ongeveer ’n minuut. As hulle stap, hoogstens drie. Sy draf teen die trap af en toe sy buite kom, koes sy agter die eerste ry struike weg. Die motor naaste aan haar begin terugstoot en sy maak die deur aan die passasierskant oop.

Wat de … Die ouer man se kop ruk. O, dis jy, Eleanor-kind. Waarom laat jy my so skrik?

Jammer, oom Dirk, maar ek soek ’n geleentheid tot by Carlos se kafee. Dis bietjie warm om te stap.

Dis reg. Hy trek weg en sy kyk nie weer om nie. Waar’s jou kar dan?

Die aansitter lol. Ek sal dat Manie dit môre sommer hier kom kry en daarna kyk. Hoe gaan dit met tannie Patti?

Dit gaan goed. Die kinders kuier die naweek daar en dis waarom sy nie saam kerk toe gekom het nie. Sy verlang na jou.

Ek verlang na haar ook.

Hoe gaan dit met jou? Waarom sien ons jou so min?

Ek is bang om ’n oorlas van myself te maak.

Ag k- … Hoor hoe lelik laat jy my amper op die Sondag praat.

Hy kyk na haar en skud sy kop.

Sy lag en raak aan sy arm. Ek sal die een of ander tyd weer ’n draai kom maak.

Waarom ry jy nie sommer saam en eet by ons nie?

Sy skud haar kop. Nie vandag nie, maar dankie. Stuur groete by die huis.

Daar staan twee motors voor die kafee en nadat sy vlugtig op en af in die straat gekyk het, stap sy na die huis wat effens eenkant staan. Iemand het jare gelede ’n bordjie op die hek aangebring waarop Laaste huis geverf is. Die rooi verf is al vaal verbleik en grof geskilfer. ’n Louwarm wind dwarrel flenters papier op en jaag stof om die hoeke van die geboue. Selfs die honde lyk op so ’n dag troosteloos. Ellie stap agterom die huis en toe sy die agterstoep opklim, grom die boerboel, maar hy staan nie op nie. Sy vryf sy kop in die verbyloop.

Ek sou ook eerder vandag in die koelte wou lê.

Die deur gaan oop en Wynand loer uit. En as jy op ’n Sondagoggend hier rondsluip?

Die kerkraad het my gestuur om te kom hoor waarom jy nie by die diens was nie.

Sê vir hulle as hulle vroeër saans ophou drink, kan ek vroeër toemaak en in die bed klim. Hy hou die agterdeur vir haar oop, maar sy skud haar kop.

Ek wil hoor of ek die motorfiets kan gebruik.

Watse bee het jy weer vanoggend in jou bonnet?

Sy vee haar hare agtertoe en glimlag op na hom toe. Van wanneer af is jy so nuuskierig?

Hy draai terug en sy stap agter hom aan tot in die kombuis, waar hy ’n sleutel van ’n hakie teen die muur afhaal.

Ek kry gou die helmet.

Is Gerda al terug van die kerk af?

Wynand skud sy kop. Nee, sy drink seker eers weer tee.

Dis miskien maar beter as jy nie sê ek was hier nie … of van die motorfiets nie.

Hy hou die helm na haar uit en knik. Jy gaan seker nie met daai rok en sandale ry nie.

Net tot by die huis.

Waar is jou kar?

Nog by die kerk. Sy gee vir hom haar motorsleutels. Doen my ’n guns en vra môre vir Manie hy moet dit gaan haal en daar by hom hou. En terwyl hy daar is, kan hulle hom sommer diens en na die aansitter kyk. Dit lol nou en dan.

Nog iets?

Nee, dis al.

Gaan jy Woensdagaand kom werk?

Sy vou haar hare onder die helm in. Ek sal jou bel.

Moenie dat ek die dag berou wat ek jou leer ry het nie! roep hy agter haar aan toe sy teen die trappies af draf. Ry versigtig.

Ellie stap agter die huis langs tot by die buitekamer waar die motorfiets gehou word. Oomblikke later ry sy by die agterhek uit en waai vir Wynand waar hy al fronsend op die stoep staan. Sy kies koers deur die veld. Dit was ’n droë somer en die grond is hard gebak. Die eerste herfsreën het nog nie geval nie. Die son brand haar vel en die lug wat sy inasem, is warm – maar hoe verder sy ry, hoe meer bedaar die knop op haar maag, tot sy voel hoe sy gemakliker sit en haar lyf die motorfiets se ritme naboots. Haar rok het tussen haar bene losgekom en wapper nou hoog teen haar dye. Die dag toe Wynand haar leer motorfiets ry het, was dit asof sy ’n liefde ontdek waarvan sy nooit geweet het nie. Sy het hom al gesoebat om dit aan haar te verkoop, maar hy wil nog nie. Sy vermoed net om die motorfiets te sien, gee hom steeds ’n gevoel van vryheid.

Dis nie dat ek nie meer kan of wil ry nie. Ek is net nie meer lus om ’n week lank in stilstuipe te leef nie. Gerda sê op my ouderdom is dit verspot en sy gaan nie vir my in die hospitaal kom kuier of my versorg as ek iets breek nie, het hy eendag vertel toe sy hom gevra het waarom hy nie eintlik meer ry nie.

Sy hou agter die turksvybos stil en stap tot by die eerste rots, van waar sy ’n onbelemmerde uitsig het. Die werf is verlate. Net die swaai onder die jakaranda roer liggies. Die leidam se water verlei haar byna, maar dis nie die moeite werd nie. Sy vee die sweet in haar nek af, maar voel hoe ’n straaltjie ontsnap en teen haar bors afloop. Sy draai terug en stap tot by die ou murasie. In die hoek van die voorste kamer lig sy die boonste sinkplaat op en tel die plastieksak uit met die rugsak daarbinne. Die sinkplaat is warm en sy laat val dit vinnig terug. Die plastieksak is vol stof en spinnerakke. Sy skud die ergste af en haal dan die rugsak uit. Sy trek haastig die rok oor haar kop, haal ’n denim, T-hemp en kort leerbaadjie uit en trek dit aan. Daarna verruil sy haar sandale vir ’n paar wolsokkies en leerstewels. Haar hare word hoog bo-op haar kop vasgemaak voordat sy weer die helm opsit. Sy stuur vir Marius ’n boodskap.

Jammer dat ek so vinnig weg is. Sal ongelukkig nie vanmiddag kan saam eet nie. Iets dringends het voorgeval. Praat later.

Sy skakel haar selfoon af en huiwer voor sy dit terug in haar handsak sit. Die handsak, rok en sandale word in die rugsak gedruk. Sy gespe die rugsak agter op die motorfiets vas en klim op. Sy laat dit ’n entjie teen die koppie afloop voordat sy die enjin aanskakel. Hier aan die agterkant van die koppie is die helling steil en sy moet konsentreer om haar balans te hou. Tien minute later is sy egter op die teer en sy haal een keer diep asem voordat sy die petrol ooptrek en voel hoe die motorfiets onder haar versnel.

Sy het die sak klere ’n week of wat na haar aankoms daar onder die sinkplate gaan wegsteek. Nie seker waarom nie, maar dit was tog asof ’n ongemaklike krieweling in haar daarna bedaar het.

Sy kan die pad toe-oë ry, en sy voel hoe haar lyf die draaie in die pas antisipeer. Sy dink dit is die kloof wat haar daardie eerste aand laat stop het. Toe sy dit agterlaat en die dorpie voor haar sien, was dit asof sy vir die eerste keer in ’n lang tyd gemaklik kon asemhaal. Soos ’n baba wat deur die geboortekanaal is en sy eerste asemteug gee. Die wêreld hierdie kant van die kloof het anders gelyk as waar sy vandaan kom. ’n Nuwe wêreld met ’n stadiger ritme. Dit was asof sy selfs die kleure om haar duideliker kon sien. As ’n mens mooi luister, kan jy nog enkele geluide hoor. ’n Tarentaal, ’n motor wat êrens wegtrek, twee honde wat om die beurt blaf. ’n Hadeda wat oor ’n huis se dak opstyg. Alles hier het nog nie in ’n kakofonie ontaard waar jy niks kan onderskei nie.

Sy bly bewus van elke motor op die pad en haar oë hou die truspieëltjie dop. Anderkant Worcester stop sy by ’n vulstasie, laat die tenk volmaak en koop ’n toebroodjie en vrugtesap. Sy trek die motorfiets onder die skadunette en eet die toebroodjie sommer so staan-staan terwyl sy die voertuie wat indraai dophou. Die meeste lyk soos gesinne op ’n Sondaguitstappie. Gaan kuier hulle vir iemand of ry hulle net rond om nie by die huis te wees nie? wonder sy.

By die uitdraai in die Du Toitskloof-pas kies sy die pad oor die berg. Dis beter om nie vandag deur die tolhek en verby die kameras te ry nie. Toe sy oor die nek gaan, lê die Skiereiland dynserig onder haar. Dit moet êrens brand.

Sy kon nou onder die boom in die leidam geswem het, dink sy vies.

Sy is bly toe sy uit die pas is en weer kan versnel. Toe sy ’n driekwartier later die Goodwood-afrit sien, huiwer sy ’n oomblik lank, maar ry dan verby. Sy sal anderdag kom. ’n Dag wanneer sy nie oor haar skouer hoef te kyk nie.

Die backpackers-plek in Seepunt het gelukkig parkering vir die motorfiets agter ’n sekuriteitshek. Die jong man agter die toonbank lyk vaak en staan stadig van sy stoel af op. Op die klein televisiestel agter hom is ’n realiteitsspeletjie aan die gang.

Hy gee vir haar ’n kamersleutel en gaan sit weer. Op dae soos hierdie pas sommige mense se inherente luiheid en onoplettendheid haar.

Die kamer is soos in die paar backpackers-plekke waar sy al vantevore geslaap het. Twee enkelbeddens. Die beddegoed lyk skoon, maar het al beter dae gesien. Die gaste wat hier oorbly, is nie op soek na ’n luukse ervaring nie. Hulle glo op hierdie manier sien hulle die ware Suid-Afrika. Soos mense wat in die voorste ry by die sirkus wil sit sodat die narre en olifante hulle kan natspoeg.

Ellie sluit haar rugsak in die kas toe, trek die kamerdeur op knip en stap in die gang af. Die houtvloer kraak onder haar.

Daar is ’n geriefswinkel op die hoek en sy is bly om te sien hulle het nog eksemplare van al die Sondagkoerante. Met die koerante en ’n botteltjie water in die hand loop sy terug. In haar kamer trek sy die baadjie en stewels uit en gaan lê op die bed, maar na ’n paar minute trek sy die denim ook uit. Dan maak sy die venster oop en trek die gordyne toe. Sy kan die see ruik, maar vandag is dit nie ’n vars reuk nie – ou bamboes wat te lank in die son gelê het, en vis. En die kamer ruik na mens.

Sy fynkam die berigte in die koerante. Niks ongewoons trek egter haar aandag nie. Dis die gewone geweld, politiek, skandale. Die wêreld oor. Die skadu teen die oorkantste muur is weg, wat beteken die son het al oor die see gesak. Toe sy op haar horlosie kyk, sien sy dis byna sesuur. Sy strek haarself uit en trek weer haar denim en stewels aan. Uit die rugsak haal sy ’n pet en sit dit op haar kop. Die jong man is nie meer agter die toonbank nie en in sy plek is ’n meisie met ’n Duitse aksent. Sy groet vriendelik. Die hitte slaan steeds van die sypaadjie af op toe Ellie buite kom en oral drentel mense nog rond. Baie eet roomys. Die buitelanders loop almal met botteltjies water.

Die restaurantjie sit volgepak, maar sy kry nog ’n tafeltjie op die sypaadjie en bestel ’n Hunter’s Dry en ’n bord pasta. Sy het net haar eerste hap geneem toe motorbande baie naby haar skreeu en ’n kwaai stem opklink. Voor sy haar kan bedink, gaan haar hand onder haar arm in. Dan onthou sy haar rewolwer is by die huis. Sy sien deur die venster hoe ’n bestuurder en voetganger op mekaar skreeu en sy neem ’n sluk van die Hunter’s en eet verder.

Terwyl sy eet, speel daar verskillende scenario’s in haar kop af. Wie soek haar en waarom? Haar eerste instink was dat dit Reggie is wat hulle gestuur het. Dat hy na vyf maande besluit het sy is tog ’n swaard oor sy kop en dat hy iets daaraan moet doen. Sy dink nie hy het ooit verwag sy sal die aanval oorleef nie. Die ondersoekeenheid kon destyds nie genoeg getuienis kry om hom te vervolg vir die aanval op haar nie. Die feit dat sy so lank bewusteloos was en omtrent eers twee weke na die aanval kon getuig het, het nie haar saak gehelp nie. Veral nie toe sy sekere fyner detail nie kon onthou nie. ’n Psigiater het op die ou end getuig die moontlikheid bestaan dat sy Reggie as haar aanvaller onthou omdat sy hom die laaste gesien het. Daar was ’n motor vol mense wat getuig het hulle het haar net afgelaai en toe dadelik weer gery. Dat hy dit nie kon doen nie. Op die ou end het hulle dit reggekry om haar oor haar eie getuienis te laat twyfel, en dit is fataal vir jou saak. As die beeld voor jou geestesoog eers een keer ’n moontlike ander gesig gekry het, kan jy daardie alternatief nooit weer miskyk nie. Wat sy tot vandag nie weet nie, is wat Albert se getuienis omtrent die aand se gebeure was. Daar was nie tyd om daaroor te praat nie, maar miskien moet sy hom eendag vra.

Clara was so ontsteld dat dit wat sy kón onthou ten beste onsamehangend was.

En nou soek iemand na haar. As dit nie Reggie is nie, wie dan? Ellie stoot haar halwe bord kos eenkant toe en drink die Hunter’s klaar.

Hoofstuk 2

Toe sy hom vroeër vanmiddag vir ete genooi het, het Nick Malherbe geweet daar is meer as pizza op die spyskaart.

Hy was nie verkeerd nie. Sy is nie ’n vrou wat speletjies speel of skimpe gooi nie. Die borde met pizzakorsies was nog nie eers in die kombuis nie, toe begin sy sy hemp losknoop.

Sy hande gly onder haar sygladde bloes in, voel hoe haar vel liggies saamtrek. Hy kan nie onthou wanneer laas hy ’n vrou se vel onder sy hande gevoel het nie. Hy wil liewer ook nie probeer onthou nie. Hy kry homself dalk jammer.

Hy is besig om met sy een hand haar bra se knippie los te maak, toe sy selfoon lui. Hy voel hoe haar hande verstil en hy kreun. Hy moes die ding afgeskakel het, of ten minste die klank afgesit het.

Hy kyk eers op sy horlosie en dan op die selfoon se skermpie. Dis Monica. Senior analis by Interpol, en tegnies sy baas. ’n Mens antwoord as Monica Blake jou op ’n Sondagaand bel. Veral as jy goeie nuus verwag. As die oproep is waaroor hy dink dit is, knoop hy hierdie week nog die grootste en langste saak van sy lewe toe. In sy geestesoog sien hy al die bordjie: Gone fishing. Miskien moet hy sy buurvrou nooi om vir hom langs die viswaters te kom kuier.

Malherbe.

Kan jy praat?

Nick voel hoe warm lippe hom in die nek begin soen. Die sein is swak, gee my ’n sekonde dat ek buite kom. Hy staan op. Sorry, ek moet dit vat. Dis werk.

Solank jy terugkom. Sy strek haar op die rusbank uit.

Hy voel nog hoe sy lyf reageer terwyl hy op die balkon uitstap.

Het jy gaste? vra Monica.

Dis die TV.

Wanneer laas het jy vir Clara Veldman gesien of van haar gehoor? val sy met die deur in die huis.

Nick huiwer ’n oomblik lank. Dis nie die gesprek wat hy verwag het nie. Ek het haar ’n maand of wat gelede in die stad raakgeloop, maar Williams se mense was by haar en ons het net vinnig gegroet. Ek kon sien sy was senuweeagtig. Waarom vra jy?

Sy is vermoedelik Vrydagaand buite ’n restaurant in Kampsbaai ontvoer.

Die hitte van ’n paar oomblikke tevore is weg uit sy lyf en in die plek daarvan voel dit of ’n koue windjie oor hom waai. Hy trek sy twee hempspante na mekaar toe. Waar hoor jy dit?

Ek het nog een of twee betroubare kontakte daar. Jy weet hulle het nie altyd detail nie. Hulle stuur maar aan wat hulle hoor. Soms is dit net gerugte.

Is die saak by die polisie aangegee? Weet iemand wie dit was en is daar al kontak gemaak met haar familie?

Stadig. Soos ek sê, ek het nie al die inligting nie. Dis …

Wat het ek vir jou gesê? val hy haar in die rede.

Ek weet.

Herhaal wat ek vir jou gesê het, ek wil hoor of jy dit woordeliks onthou.

Jy het gesê Clara bly ’n risiko.

Waarom het jy my nie geglo nie?

Dis nie dat ek jou nie geglo het nie. Jy weet hoe ons sukkel om samewerking te kry. Ek het jou destyds gewaarsku hierdie gaan nie maklik wees nie.

Hy antwoord haar nie.

Is jy nog daar?

Ja.

Ek hou nie daarvan as jy stil raak nie. Dis wanneer jy gevaarlik raak en ek nie seker is wat om te verwag nie.

Moenie worry nie.

En daardie woorde wil ek glad nie hoor nie.

Niemand van ons kry altyd alles wat ons wil hê nie. Ek wou beslis ook nie vanaand hierdie nuus gehoor het nie. Hoe ver is julle met die papierwerk?

Feitlik klaar.

En?

Sover lyk dit of alles daar is. Ek hou nie van die woord ‘waterdig’ nie, maar jy het ’n goeie job gedoen. As ons nie hiermee slaag nie, moet ons vir ons ander werk kry.

Ons kan niks sonder die finale papierwerk doen nie, so sê die ouens moet hulle gatte roer. Ek wil verkieslik nog hierdie week klaarmaak.

Ek sal die boodskap oordra. Wil jy hê ek moet probeer uitvind oor Clara?

Nee, los dit vir my. Ons weet in hierdie stadium nie eers of dit ’n ontvoering was nie.

Nick, tegnies het haar verdwyning niks met ons te doen nie. Ons is nie vir haar veiligheid verantwoordelik nie.

As jy dit glo, verstaan jy beslis nie wat hier aangaan nie.

OK. Ek gaan dit in jou hande laat, maar ek wil op hoogte gehou word. En laat weet as jy hulp nodig het.

Wil jy nou my hand kom vashou?

Ek sal as dit nodig is.

Dis nie nodig nie. Sorg jy eerder dat die papierwerk klaarkom. Ek is gatvol.

Sy raak stil en hy hoor hoe sy asemhaal asof sy iets wil sê, dan blaas sy sag haar asem uit. Lekker slaap.

Nick skakel sy selfoon af sonder om te groet.

Nadat hy vyf maande gelede deur kaptein Albert Greyling en sy trawante in hegtenis geneem is en van die ontvoering van luitenant Eleanor McKenna en Clara Veldman aangekla is, moes Monica inderhaas Kaap toe kom om te verduidelik wie en wat hy is. En toe ’n paar weke later, die groot vergadering. Almal was daar. Brigadier Andile Zondi, hoof van die polisie se intelligensieeenheid, saam met McKenna se kollega, Clive Barnard. Brigadier Ibrahim Ahmed, hoof van die eenheid vir ernstige ekonomiese misdaad, Albert Greyling, en nog mense wat hy nie geken het nie. Dit het vir hom gevoel hy staan kaal. Die dag as jy jou inlaat vir so ’n projek, vertel jy beslis nie vir die hele wêreld daarvan nie.

Monica wou hom summier aan die saak onttrek, maar ’n mens stap nie sommer van vyf jaar se werk af weg nie. Selfs al beteken dit jou veiligheid is skielik nie meer slegs in jou eie hande nie. Daar is nou ’n paar ander mense wat weet dat hy nie werklik net die Allegretti-familie se hoof van sekuriteit is nie. Hy ervaar soms ’n krieweling teen sy rug af, maar hy onderdruk dit. Dit is maar net nog een risiko wat hy daagliks loop. Hoe vreemd dit ook al mag wees, die ding wat op die oomblik in sy guns tel, is die feit dat daar daagliks polisiebeamptes aangekla word van bedrog. Hy kan waarskynlik nou vir die Allegretti’s vertel hy is ’n polisieman en hulle sal nie ’n oog knip nie. Inteendeel, dit behoort hom dalk ’n groter bate te maak.

Hy het egter nie kans gesien om weer in Allegretti se woonstel te gaan bly nie. Hoe luuks en hoe mooi die uitsig op die Atlantiese Oseaan ook al is. Op die ou end het hy hierdie woonstel in Tamboerskloof gehuur. Dis in ’n ou blok, maar die vertrekke is ruim en dit voel of hy aan die berg kan raak as hy sy arm uitsteek. Hier kan hy ten minste makliker asemhaal. Die paar meubelstukke het hy om die hoek by ’n tweedehandse winkel opgespoor. Sy gunsteling is die rusbank waarvan die leer al behoorlik ingeleef is. Sy bed is darem nuut. Hy was nie lus om in ’n ander mens se nagmerries wakker te word nie. Hy het genoeg van sy eie.

Hy is egter nie op die oomblik in sy woonstel nie, maar in sy buurvrou s’n. Hulle twee het mekaar eendag op die trap raakgeloop en aan die gesels geraak. Daarna nog ’n paar keer so op die trap en in die gang gesels. En toe nooi sy hom een aand vir ete.

Dit was ’n Dinsdag. Allegretti was by die huis en Nick het onverwags ’n vry aand gehad. Hy het nog altyd gedink Dinsdagaande is vaal en sonder potensiaal. Dis waarskynlik waarom hy gegaan het. Haar naam is Carin en sy werk vir ’n advertensiemaatskappy in die stad, reis baie en is maklike geselskap. Wat beteken sy vra nie onnodige vrae nie, in elk geval nog nie. Sy vermaak hom grootliks met stories van haar werk en reise. Dit pas hom. Daar was nog ’n paar etes, waar hulle ligtelik geflirt het.

Toe hy die skuifdeur agter hom toetrek, praat sy agter hom. Hy draai om. Sy staan kaal. Haar lyf herinner hom aan Gabriella s’n. Skraal, maar met kurwes. Groot, ferm borste.

Dis swak maniere om oproepe van ander vroue te beantwoord terwyl jy by my is. Sy glimlag.

Jammer. Dit was regtig werk.

Dié tyd van die aand?

Hy het haar vertel hy werk in die sekuriteitsbedryf.

Ongelukkig, ja. En ek sal moet gaan.

You must be joking.

Ongelukkig nie.

Ek is seker wat dit ook al is, kan wag.

Nick sit sy hand op haar heup. Haar vel is warm. Hy kan haar ruik. Dalk effens te blommerig na sy smaak, maar dis gelukkig subtiel.

Sy tree nader en maak die laaste knoop van sy hemp los. Hy soen haar kaal skouer en besluit dit sál swak maniere wees om nou te loop. Hy trek haar nader.

Toe Nick later sy woonsteldeur oopsluit, kyk hy op sy horlosie. Hy wonder of Allegretti al die nuus gekry het. Die kanse is goed hy is teen hierdie tyd nie meer in ’n toestand om enigiets te registreer nie. Clara is die enigste mens wat dit nog ooit kon regkry om soms sin in sy kop te praat en hom te stop as hy heeltemal beheer verloor.

Nick stroop sy klere af, stort vinnig en raap dan sy bakkie se sleutels op en drafstap by die trap af. Hy hoop regtig nie die nuus het al by Allegretti uitgekom nie. Hy is kapabel en ry na Williams toe.

Op pad Bantrybaai toe tref ’n ander gedagte hom – wat as Allegretti vir Clara ontvoer het? Vir hulle almal se onthalwe hoop hy dis nie die geval nie. Die gevolge gaan bloedig wees.

Die huis lyk stil en donker toe Nick daar parkeer. Die huis is deesdae dikwels stil. Allegretti nooi nou en dan nog mense oor, maar dit gebeur gereeld dat hy hulle na ’n uur aansê om te gaan. Hy het nie meer lus vir hulle nie.

Die sekuriteitswagte verseker hom Allegretti was die hele dag by die huis. Nick kan nie besluit of dit goeie of slegte nuus is nie.

Hy sluit die voordeur oop en draf teen die trap op. Die ruim leefkamer is donker, maar op die trap boontoe brand ’n lig. Hy hoor stemme in die televisiekamer en steek vas. Die wagte sou seker gesê het as daar gaste was. Toe hy bo kom, sien hy dis die televisie wat hy gehoor het. Op die koffietafel staan ’n halfvol bottel tequila en ’n leë bottel Bollinger. Daar lê ook spore van wit poeier.

Nick roep en toe hy nie antwoord kry nie, gaan kyk hy in die hoofslaapkamer. Die bed is omgekrap, maar daar is geen teken van Allegretti nie. Die badkamer en aantrekkamer lewer ook niks op nie. Nick draf weer ondertoe, gaan kyk eers in die gym aan die agterkant van die huis. Nie dat hy dink Allegretti het skielik lus gekry vir oefening nie. Toe hy hom ook nie daar kry nie, stap hy deur die res van die vertrekke en die woonstel onder die huis.

Daarna gaan klop hy aan Patrice se deur. Die deur staan effens oop en toe daar nie antwoord kom nie, stoot Nick dit wyer oop. Dit lyk of ’n orkaan die plek getref het. Van die meubels lê onderstebo. Net binne die deur is ’n groterige donker kol op die mat. ’n Rooibruin streep loop daarvandaan deur die slaapkamer badkamer toe.

Nick vind Patrice op die badkamervloer. Hy lê in ’n plas bloed. Sy oë is oop en hy haal hortend asem.

Nick haal sy selfoon uit terwyl hy by Patrice buk.

Ek het dringend ’n ambulans nodig, sê hy toe iemand antwoord. Hy gee die adres. Iemand is geskiet.

Hy raak aan Patrice. I’m here and the ambulance is on its way. Just keep still. Hy haal die handdoek weg waarmee Patrice vermoedelik die wond wou toedruk en sien sy vermoede was reg. Dis ’n skietwond in sy buik. Hy haal ’n skoon handdoek van die reling af en druk dit teen die wond. Hy wil kyk vir ’n uitskietwond, maar die risiko is te groot om hom nou te verskuif.

What happened? Hy is nie op die oomblik so vreeslik gepla met wat gebeur het nie, maar hy wil nie hê Patrice moet sy bewussyn verloor nie. What happened? Where is Enzio?

Patrice probeer sy kop skud. Sorry.

Who shot you? Hy kry nie ’n antwoord nie, gaan sit en bel die waghuisie onder by die hek.

Ek verwag ’n ambulans. Maak solank die hek oop en dan moet een van julle hulle so vinnig moontlik na Patrice se woonstel toe bring.

Nick wag nie vir ’n antwoord nie, sy aandag is reeds weer by Patrice. Open your eyes and talk to me. Who shot you?

Patrice se oë val egter toe en hy antwoord nie verder op enige vrae nie.

Hy is bereid om die gevolge te dra vir sy keuses en besluite, maar wanneer iemand anders begin betaal vir jou besluite, raak dit moeilik. Hy het Patrice gewerf, en al het hy seker gemaak die man verstaan die moontlike implikasies, voel hy steeds verantwoordelik. En magteloos. Hy haat dit om só te voel.

Na wat soos ’n ewigheid voel, hoor Nick stemme. Twee paramedici kom die badkamer binne.

Hy is geskiet en het baie bloed verloor, sê hy vir die een wat eerste by Patrice buk. Dan staan hy op sodat hulle kan oorneem.

Tien minute later is Patrice agter in die ambulans. In sy arm is ’n naald en bo sy kop hang ’n sakkie vloeistof. Nick sê hy sal agterna met sy bakkie ry.

Niemand gaan in die huis in nie, gee hy bevele by die hek. Selfs nie julle nie, en bel my as enigiemand hier opdaag.

Dis amper eenuur toe hulle by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in die stad stop. Die noodeenheid is nog ’n miernes, maar Patrice word dadelik gestoot deur ’n deur waarop Triage staan. Die suster maak die deur agter die trollie toe.

Kan u vir ons in die wagkamer wag, asseblief? sê sy deur ’n skrefie.

Nick stap terug na waar hy die wagkamer gesien het. Dit sit volgepak. Hy was nog nooit goed met wag nie en hy haat hospitale en veral wagkamers. Hy was nog ’n kind toe sy pa dood is, maar kan steeds die reuk onthou. En die harde stoele. Hy en sy broer was soms so moeg dat hulle sommer op die mat geslaap het terwyl sy ma uur na uur op ’n regop stoel gesit het. Hoopvol dat iemand ’n bietjie goeie nuus sal bring.

Jare later was dit weer hy en sy broer wat op die stoele gewag het vir nuus oor hulle ma. Elke keer het hulle die nuus in ’n wagkamer gekry. Hy staan dus nou eerder in die gang.

Monica antwoord met die derde lui. Hy vertel haar van Patrice wat geskiet is en Allegretti wat weg is.

Waar is jy?

By die hospitaal.

Het jy die polisie in kennis gestel?

Nee, daar was nie tyd nie.

Jy gaan hulle ook nie in kennis stel nie, gaan jy?

Nee.

Dink jy dis slim om so iets te probeer wegsteek?

Ek gaan dit nie wegsteek nie. Ek wil net self kies wie en wat ek naby die saak gaan toelaat. As ek nou die deure oopgooi, is die hele saak teen sonsopkoms gefok.

Het jy iemand in gedagte?

Ek dink nog.

Nick, ek is jammer oor Patrice. Ek weet jy het hom gewerf en jy voel verantwoordelik vir hom, maar jy het hom nie geskiet nie.

Ek moet eers gaan. Ons kan later praat.

Ek ken daardie toon in jou stem en dit voorspel niks goeds nie.

Watter toon?

Daai een wat sê jy gaan nie meer na raad luister nie.

Dit hang af van wie die raad kom. Hy groet voor sy kan antwoord.

Nick versit homself waar hy teen die muur in die gang staan, en kyk na die mense wat by hom verbyloop. Die personeel lyk moeg. Sommige kry dit nog reg om skeefweg te glimlag. ’n Flou poging om bemoedigend te lyk. Ander doen nie meer die moeite nie.

Van hier waar hy staan, lyk die wagkamer oorkant die gang vir hom soos ’n getypoel. Mense kom en gaan. Soms is daar ’n paar leë stoele, maar die golf stoot elke keer weer nuwes in. Kinders sit op ouers se skote, die meeste in hul nagklere. Paartjies hou aan mekaar vas. Bejaardes lyk bang en verwese. Hier en daar is ’n enkeling wat nie links of regs kyk nie. Sommige lyk by die dood, ander makeer sigbaar niks. Hy is egter oud genoeg om te weet daar waar die tekens onsigbaar is, is soms van die grootste probleme. Diep pyn is gevaarlike pyn.

Hy is verlig toe hulle hom roep om die papierwerk vir Patrice se opname te teken. Dis beter as om net te staan.

Dis toe hy die datum sien, dat hy sy asem hoorbaar uitblaas. Hy moet onthou om haar môre te bel.

Kan dit al vyf jaar wees?

Ellie kyk op haar horlosie. Sy sit die pay-as-you-go-simkaart in die selfoon en skakel sy nommer. Sy wag lank voor die bekende stem antwoord.

Barnard.

Dis ek. Slaap jy al?

Mac?

Ja.

Waar de donner is jy?

In haar geestesoog sien sy vir Clive. Dis ’n wonder hy het net donner gesê.

Ek bel sommer om te hoor hoe dit gaan. Ellie het besluit dis beter as sy hom eers nie van die twee mans in die kerk vertel nie. Sy hoop as daar iets gebeur het, sal hy haar vertel.

Daar is ’n oomblik lank stilte, voor hy kras lag. Fok jou! Jy verdwyn vir amper vyf maande, sonder om my eers te laat weet of jy nog lewe, en dan bel jy op ’n Sondagaand en vra hoe gaan dit. Hoe dink jy gaan dit met my nadat ek maande nie van jou gehoor het nie?

Ek is jammer …

Daai is die mees overrated sin in die wêreld. Dit beteken net mooi fokol.

Clive … het daar iets gebeur waarvan ek moet weet?

Soos wat?

Ek weet nie. Enigiets wat ’n rooi vlag vir jou laat opgaan het.

So eintlik bel jy nie rêrig om te hoor hoe dit met my gaan nie.

Clive …

Hy sug. Ek weet nie waarvan jy praat nie. Greyling het my gisteroggend gebel en gevra waar jy is. Ek weet nie of hy vir jou ’n rooi vlag is nie.

Hoekom het hy gedink jy sal weet waar ek is?

Seker omdat almal gedink het ek weet waar jy is. Ons was after all nogal lank partners.

Hoe het jy geweet waar ek is?

Weer sug hy. "Iemand se ma se niggie se agterkleinkind of so iets is ’n

Enjoying the preview?
Page 1 of 1