Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Raaiselkind
Raaiselkind
Raaiselkind
Ebook473 pages8 hours

Raaiselkind

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Raaiselkind is ´n verhaal wat die kruis van outisme genadeloos oopvlek.
Sentraal in hierdie aangrypende gegewe staan twee onvergeetlike vrouekarakters: Ingrid Dorfling, ma van Alexander, wat die grense van wanhoop versit in haar verbete stryd om die kind wat hulle hele gesinlewe ontwrig “mens” te laat word. En in die proses omtrent alles wat kosbaar is, verloor.
Parallel met Ingrid staan Miriam – oppasma – wat met haar kinderlike godsvertroue en aardse wysheid die enigste is wat tot “Boetatjie” kan deurdring. Wat, as niks meer help nie, met hom onder die olienhoutboom gaan sit en sussende hallelujaliedere sing.
En dan is daar Alexander. Vreemdelingkind op sy eie “eiland”. Gillende, skoppende seuntjie wat kantelkop sit en luister wanneer die kerkklokke beier … Raaiselkind.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateDec 17, 2016
ISBN9780624078159
Raaiselkind
Author

Annelie Botes

Annelie Botes is in Junie 1957 gebore op die plaas Grootfontein in die Kammanassie naby Uniondale. Sy is gedoop, geskool, getroud op Uniondale en het in 1986 ’n onderwyslisensiaat in klavier aan Unisa behaal. Sy was onder meer ’n musiekonderwyseres en kerkorreliste. Haar eerste skryfwerk is gepubliseer in die destydse Brandwag toe sy 18 was. Ná baie jare van stilte begin sy in 1994 aktief skryf. Ongeveer 50 kortverhale en novelles het reeds in Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose. verskyn. Sy debuteer in 1995 met die roman Trippel Sewe en later in 1995 verskyn Ribbokvoete, en in 1997 verskyn Klawervier by Tafelberg-Uitgewers, waarvoor sy die ATKV-prys vir gewilde prosa ontvang. Sy is ook bekend vir haar Goeie Môre-rubriek in Volksblad en Van Alle Kante-rubriek in Die Burger, en is ook ’n gewilde gasspreker.

Read more from Annelie Botes

Related to Raaiselkind

Related ebooks

Related articles

Reviews for Raaiselkind

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Raaiselkind - Annelie Botes

    Raaiselkind

    Annelie Botes

    Tafelberg

    Vir elke mens aan wie die taak gegee is om met ’n raaiselkind deur die lewe te reis

    Gee ag op dié met ’n gekwelde gees

    want hulle is vol vreemde wysheid.

    Muurskrif, Nineve, 6 v.C.

    1 Die sementvloer van die badkamer is ’n blok ys onder haar voete. Koue prikke skiet deur haar kuite tot in haar knieë. Verbouereerd kyk sy af na haar spierwit lyf, dan op na die vrouespeurder wat hande agter die rug by die wasbak staan. Haar oog glip skrams na die klein matglasvierkant van die toiletvenster.

    Nee, dis te klein en te hoog. En al kon sy daar uit, kan sy nie kaal in die strate uithardloop nie. Buitendien, dis ver huis toe; sy sal bosselangs moet hou om ongesiens daar te kom. En kom sy oor twee of drie dae uiteindelik by die huis, wag hulle haar tóg daar in, want hulle weet sy het nêrens anders om heen te gaan nie.

    Dalk kan sy voor die dorp wegswaai en op Gunter se plaas in die berge gaan wegkruip. Van bolle en bessies lewe. Iewers in die bergruigtes sal ’n bakkrans of ’n grot wees waar sy die winter van haar lyf af kan hou. Dalk kan sy in die donker bergaf gaan en by Gunter ’n kombers en hoesmedisyne kry. Hy sal vir niemand sê sy kruip in die berge weg nie.

    Nee, sy sal nie weet watter bessies is giftig nie. En sê nou sy is te bang om donkernag af te gaan na Gunter se huis toe, of sy kry longontsteking in die nat klowe? Nee, hulle sal Gunter se plek dophou. Sal waarskynlik polisiehonde stuur om haar spoor te vat.

    Wat van Miriam se huis in die lokasie? Sweerlik sal niemand na haar kom soek in die houtkamertjie agter die hoenderhok nie. Nee, die lokasie het te veel oë. Dan kom Miriam om háár onthalwe ook in die moeilikheid.

    Sy moenie dom wees en probeer wegkom nie. Hulle sal haar orals uitruik.

    Buitendien, sy hoef vir niemand weg te kruip nie. Sy weet die speurder dink sy het Alexander verdrink. Hoekom anders sou hulle haar arresteer en hierheen bring vir ondervraging; so ver ondertoe grawe in óú goed van jare en jare terug? Maar hulle dink verkeerd. Alexander was bloed van haar bloed. Al was hy outisties, was hy haar kind. Onbeheerste kind vol wildheid en neuroses en rituele.

    Tog.

    Sy sou hom nooit skade berokken het nie.

    Sak wydsbeen op jou hurke neer, sê die vrouespeurder en staan effe tru, draai nie vir ’n sekonde haar oë weg nie.

    Wydsbeen op haar hurke neersak? Waarvoor? Is die vrou van haar sinne beroof?

    Antwoord nie. Bly stokstyfregop staan.

    Asseblief, mevrou Dorfling.

    Sy moenie gaan sit nie. Sy moenie voor hulle verkrummel nie. Ek is kaal. Ek kan mos nie … ek bedoel …

    Die vrouespeurder kom ’n tree nader. Ek moet jou deursoek vir gevaarlike voorwerpe, dis al.

    Jy hét my al deursoek. Handpalms na bo gedraai, pleitend. Ek is kaal; wat kan ek wegsteek?

    Dis normale prosedure. Jy sal jou verbaas wáár desperate vroue goed indruk en later uittrek om as wapens of ontsnapmiddels te gebruik. Sak asseblief op jou hurke af.

    Vir tydlose sekondes meet sy en die vrou mekaar. Toe sak sy stadig op haar hurke. Vernederd. Gestroop. Toe haar vingerpunte die yskoue badkamervloer raak, ruk ’n hoesbui met ’n rasperklank uit haar borskas los. Sy knyp om haar blaasspiere te beheer en verloor haar balans. Die hoestrane laat alles om haar verwaas. Deur die dun traanlaag sien sy die vrouespeurder se skoene en onderbene nader kom.

    Staan maar op en trek aan. Wat ook al daar binne kon wees, sou teen dié tyd uitgepeul het. Ryg jou tekkieveters uit sodat dit saam met jou ander goed opgeskryf kan word.

    "Julle verneder my verskriklik. Sou jy daarvan hou om op jou hurke te sit sodat ’n vreemdeling tussen jou bene kan inkyk?"

    Dis my werk, mevrou Dorfling, dis iets wat ek elke dag doen. Onverstoord, sonder selfs ’n stemstyging. As daar later moeilikheid kom omdat jy wel iets daar binne weggesteek het, moet ek verduidelik.

    2 Dis nog pikdonkeroggend. Murgkoud. Swaarte gehad om uit die warm kooigoeters op te staan.

    Sy moet klaarkry. Die grootkerk se lorrie gaan nie vir haar wag nie. En dis vergete se tyd al dat sy agter in die kloof by die grootkerk wil uitkom om haar te gaan afbuig voor die Here. Oor baie dinge.

    Sy vou die broodkombers van die deegskottel af en stoot die moue van die blou trui wat sy nog van oorle’ master Dawid geërf het tot bokant haar elmboë op. Doop haar kneukels in die piering louwarm botter om die brooddeeg af te knie.

    Haar maag kramp.

    Die Here weet, van wakkerwordtyd af al is iets in haar derms nie soos dit hoort nie. Brommerigheid wat haar binnegoed al in mekaar laat vasknoop. Maak dat daar ’n floute op haar wil kom neersak.

    Dis ’n voorgevoelentheid. Sy weet dit.

    Lank t’rug, toe haar ma nog geleef het, het haar ma eendag gesê party mense word met ’n helm in hulle mae gebore. En dat ’n maaghelm baie meer praatkrag het as ’n kophelm. Hoeveel kere was daar nie al snaakse dode in hierdie lokasiestraat nie, en elkere keer het haar maaghelm dit vooraf vir haar gekom sê. Soos die keer toe Mannetjie van ant Maria aan ’n hempsknoop doodgeverstik het. En toe Sina se derde voortjint gegly en in ’n twee vinger diepe waterpoeletjie geverdrink het.

    Sy wil liewerster nie beginte dink aan al die kere toe die doodsengel se harde stem met haar gepraat het nie. Sleg vir haar kop. Vir die draaierigheid in haar derms ook.

    Miriam! Dis Jeremia uit die agterkamer. Is die koffie klaar getrek?

    Sy hou haar doof. Regte luigat, Jeremia. Lê met sy agterent warm toegetrek onder die pisvelle wyl sy met haar sere jigbene in die koue nagwind moet uitsukkel houtkamertjie toe om fynhout te breek vir vuurmaak. Deeg afknie. Panne smeer. Sukkel met die rokerige klamhoutvuur. Sal seker nog Jeremia se broek ook vir hom moet loop aantrek voor sy vanoggend op die lorrie kan klim grootkerk toe.

    Haar maag gee weer ’n draai. Miskien moet sy kleinhuisie toe gaan. Nee. Dis nie ’n kleinhuisiedraai nie.

    Dis iets anders.

    As die Here maar net hierdie naweek tot Maandagoggend met invaltyd by miss Ingrid en by Boetatjie sal bly. Sommer by Jeremia ook, dat hy nie die brood laat oorrys of dit kliphard uitbak nie. Laat hom goed is vir haar hoenders, en moenie dat hy sy hande aan die lê-eiers sit nie.

    En seën die grootkerk.

    3 Daar binne.

    Here van alle heres.

    Hét sy nog iets daar binne? Alles wat sy ooit was of kon wees, het doodgegaan. Stadig en moeisaam, nege helse jare lank. Sel vir sel. Weefsel vir weefsel. Tot by die senupunte. Dit wat Alexander nie oor nege jare heen afgekerf het nie, het die dorpsmense afgekerf.

    Nou is Alexander dood.

    As sy nie sy slap lyfie vanoggend met haar eie hande uit die badwater getel en in die stilheid van sy glasblou oë vasgekyk het nie, sou sy dit nie geglo het nie.

    Wat gaan sy maak as hulle agterkom sy is werklik onskuldig en hulle neem haar terug dorp toe? Waar daar niemand is aan wie se deur sy kan klop of by wie se kombuistafel sy kan gaan sit en huil oor haar kind nie. So seker as God leef, die dorpsmense gaan nooit ophou skinder en gis nie. Die enigste mens op die dorp wat iets vir haar en Alexander oorhet, is Miriam. Moederhen wat hulle onder haar bruin vlerkvere ingedruk het; haar vlerke kloekend om hulle toegevou het waar en wanneer sy kon. Miriam, wat op somber dae ’n bakhand vol vertroosting uitgedeel het; gesê het die son sal hulle nie in die heldere dag steek nie, ook nie die maan in die nag nie. Sou iemand al daaraan gedink het om vir Miriam te gaan sê van die verskriklike ding wat gebeur het? Nee, Miriam is mos nie die naweek by die huis nie. Sy het Vrydagmiddag met uitvaltyd gesê sy ry Saterdagoggend vroeg saam met die lorrie om te gaan grootkerk hou by haar skoonmense agter in die kloof. Die nuus sal nie so gou tot agter in die kloof trek nie.

    Behalwe vir Miriam is daar net een sterfling wat ooit ná aan haar siel gekom het.

    Gunter.

    En so ná as wat hy aan haar was, net so ver en onbereikbaar was hy. Man met die stilbruin oë wat alles sê en terselfdertyd niks sê nie. Man wat met die saal op sy skouer aangestap kom om die hondmak perd vir Alexander op te saal, die stiebeuels klingelend terwyl hy woordeloos werk. Sweetvlekke aan sy kakiehemp, al teen sy rugbiltonge langs. Man wat die stof met die sonverbrande rugkant van sy hand van sy voorkop wegsmeer, sy knipmes uithaal en die lem teen sy broekspyp skoon vee. Wat baie middae saam met haar op die kraalmuur sit terwyl die kanferboswind oor hulle waai.

    Jy moet Alexander se voete beter versorg, Ingrid. Hy het knipmes in die hand gekniel waar Alexander op sy rug op die stalvloerstrooi gelê het. Kyk hoe lyk sy voete van die dorings en sweerplekke.

    Sy was moeg daardie dag. Dawid se dood het nog aan haar gekleef. Niemand in die dorp het haar reguit in die oë gekyk nie. Sy ook nie in hulle s’n nie. Want sy was bang hulle kyk mekaar middeldeur.

    Ag, Gunter, hy weet nie eens daar is dorings in sy voete nie.

    Hy gaan in ’n geroeste ding trap en bloedvergiftiging kry. Jy móét sy voete beter versorg, Ingrid. Anders moet jy hom leer om skoene te dra.

    Hy weier om skoene te dra, en dit help nie ek probeer sy voete versorg nie, hy skop in my gesig.

    Karring met die mes sonder om op te kyk. Hoekom lê hy dan stil as ek die dorings uitkrap?

    "Omdat jy nie ek is nie. Hy staan my teë in alles."

    Gunter het na die blik melksalf op die hekpaal beduie. Hou op nonsens praat en gee die blik aan, sodat ek sy voete kan insmeer.

    Elke Sondag wat sy Alexander geneem het om te gaan perdry, en Gunter met die saal en stiebeuels aangestap kom, het Alexander op sy rug in die stal gaan lê. Asof hy besef het hy mag eers ry as Gunter sy voete skoongekrap en ingesmeer het. Nooit na Gunter geskop of vir hom gegrom nie. Vir daardie vreedsame twintig minute of ’n halfuur kon sy haar lossny van Alexander. Kon sy hom in Gunter se hande neersit.

    In die begin was sy senuagtig wanneer Alexander aan die perd se maanhare swaai of die perd se lippe ooptrek en aan haar tande krap. Op die grond lê met sy voete al trappende teen die perd se maag. Elke keer dat Alexander agter die perd inbeweeg en aan haar stert hang, het sy die geringste beweging van die perd gespanne dopgehou.

    Ek is onrustig as hy tussen die perd se bene lê. Wanneer trap sy nie op hom nie, of skop hom?

    Lucy sal nie op hom trap of hom skop nie. Sy ken hom, en sy weet.

    Hoe kan jy sê die perd weet? Sy het mos nie ’n oog onder haar maag om te sien waar lê Alexander nie.

    Jy vrees onnodig, Ingrid. Lucy sal nie op hom trap nie.

    Dan het sy na die knielende man gekyk wat so tydsaam met die kind se voet in sy hand sit. Elke dorinkie uitkrap, elke stukkie dooie vel afsny, elke snymerk en sweerplekkie met die vetterige melksalf invryf.

    God, het sy al baie daar op die kraalmuur gevra, hoekom het ek ’n outistiese kind gekry? Hoe moet ek hom liefhê en troetel as hy my gedurig wegdruk en vir my grom asof ek ’n inbreker is? Hy hoor of verstaan my nie; kyk dwarsdeur my asof ek ’n glasborrel is.

    Altyd antwoordloos.

    Tog, vir haar was God in die reuk van strooi en perd en stal en melksalf. In die vreedsame dophou van Gunter en Alexander. Al gebeur dit dan uiteindelik so dat dit ál is wat sy vir die res van haar lewe van Gunter met haar sal saamdra, is dit ver beter as niks.

    Sou die veldbrand oor Alexander se dood al tot by Gunter se ore gebrand het? Sal hy haar by haar huis kom soek en agterkom sy is nie daar nie?

    Stap voor my uit. Die vrouespeurder du haar in die rug.

    Gangaf. Op met die trap. Verby toegetrekte deure. Terug na waar die man met die potswart kraletjiesoë haar by sy lessenaar inwag. Reg om haar emosionele skanse stelselmatig aan skerwe te slaan. Here, sy is moeg; sy sien nie kans om sy breë rooi gesig en die hare wat by sy neusgate uitsteek te aanskou nie. As hy haar net een uur lank alleen sal los. Om te huil oor Alexander; om alleen te wees met die beeld van haar dooie kind wat so slap in haar arms hang. Te onthou hoe sy sy waternat lyfie op die bed neergelê het en haar mond oor syne gesit het om die asem in sy lyf terug te blaas. Na hom geroep en geroep het. Keer op keer afgesak en geblaas het. Maar sy oë het stokdood in hare bly vasstaar.

    Vandat die man en vrou vroeër vanmiddag by haar huis ingestap het, los die man haar nie een sekonde nie. Vra, vra, vra. Onophoudelik. En elke vraag laat dit meer en meer klink asof hy oortuig is sy het Alexander verdrink. Hoekom wil hy van háár ’n verdagte maak? Hoekom vra hy nie uit oor al die kere toe sy Alexander soos ’n tierkat beskerm het teen die aanslae van die dorpsmense nie? Jare waarin sy hom elke keer opnuut liefgehad het. Snags by sy bedjie gesit en sy voetsole met die skoenborsel gevryf het terwyl hy slaap. Op haar knieë saam met hom in sy tafeldoekhuis gespeel het. Vir hom melkkoffie geneem het waar hy ineengekrimp in die besemkas weggekruip sit. Jare waarin sy haarself verskeur het op soek na antwoorde. Op die rand van bankrotskap gaan draai het oor dokters en nogmaals dokters. Met ’n gehawende motor rondgeswerf het op soek na mediese hulp en kennis. Telkens donkernag deur koedoewêreld teruggekom het van afsprake en doktersondersoeke. Op die anderkantste rand van malword omgedraai het omdat niemand antwoorde kon gee nie.

    Maar dís nie die dinge waaroor die man haar onophoudelik onder kruisverhoor neem nie.

    As sy geweet het hulle kom haar weer ’n keer ondervra, sou sy nie die slaappil gedrink het nie. Dan sou dit nie heeltyd vir haar nodig gewees het om te veg teen die dronkvaak wat haar wil wegsuig nie.

    Loop vinniger, sê die vrou agter haar en raak haar teen die niere.

    Hulle voetstappe weerklink deur die Saterdagmiddagverlatenheid van die Moord-en-Roof-gebou. ’n Ent gangaf spoel die lig uit ’n oop kantoordeur. Sy sien nie kans om haarself weer voor die man te verdedig nie. Maar immers is die kantoor nie so vriesend koud soos toe sy kaal in die badkamer met haar arms bokant haar kop gestaan het nie.

    Miskien neem hulle haar nou huis toe.

    Nee, sy moenie haar hoop daarop bou nie.

    As hulle beplan om haar te laat huis toe gaan, sou hulle haar nie so deeglik deursoek het nie. Sy kan onthou die man het vroeër iets gesê van ag-en-veertig uur aanhou vir ondervraging. Iewers tussenin moet sy slaap en bad en eet. Here, sê nou hulle sit haar in ’n tronksel tot die ag-en-veertig uur verby is? En sê nou die man dink dan nog steeds sy is die skuldige, wat dan?

    Ek sal jou aanraai om jou samewerking vir kolonel Herselman te gee. Moenie dit vir jouself moeilik maak nie, praat die vrou op haar hakke. Die kolonel is nie ’n geduldige man nie; ook nie ’n sagte man nie. Baie verdagtes kry later spyt omdat hulle nie uit die staanspoor hulle volle samewerking gegee …

    Asseblief, en sy stop viervoet in die swak verligte gang sodat die vrou byna teen haar vasloop, tol om en smeek: Kan ek nie maar huis toe gaan nie? Ek is ontsettend moeg. Ek het die laaste twee weke omtrent nooit geslaap nie. Julle maak ’n verskriklike fout om my te beskuldig van …

    Ons beskuldig jou nie, mevrou Dorfling. Jy is ’n verdagte en al wat ons doen, is om jou te ondervra.

    Here, laat die vrou asseblief na haar luister en haar huis toe neem. As die stilte en mensloosheid in die huis te veel raak, kan sy uitry na Gunter toe. Alleen op die kraalmuur gaan sit; na God soek in die bekende reuke van die stal.

    Hoe kan ek ’n verdagte wees? Julle behoort tog self in te sien julle maak ’n fout om my te verdink.

    Mevrou Dorfling, jou kind se dood was beslis nie ’n ongeluk nie.

    Hoe kan jy so ’n ongegronde aantyging maak? Julle was nie daar om te sien wat gebeur het nie.

    Presies. Maar uit die feite in die lykskouingsverslag weet ons daar het iets abnormaals gebeur. Dis ons werk om uit te vind wat dit was.

    Sy moet die vrou oortuig. Vannag wil sy in haar eie bed slaap. "Wat bedoel jy met abnormaal?"

    Dit wil ons by jou uitvind, mevrou Dorfling.

    Moenie ophou pleit nie. "Hoekom by my? Ek is sy ma, hoekom sou ek …?"

    Die vrou vat haar aan die elmboog, druk haar weer met die ander hand in die rugholte. Jy kan jou saak vir kolonel Herselman stel. Stap.

    Asseblief, ek …

    Stap, mevrou Dorfling.

    Sy stap.

    Dis nodeloos.

    Hoe verwoord ’n mens nege jaar se marteling en hel? Die man stel in ieder geval nie belang om van haar hel te hoor nie. Hy soek net heeltyd na ’n deurkomplek om haar skuld te bewys. Sou sy die slag stilbly om die wanorde in haar kop reg te skommel, jaag hy haar aan om te antwoord. Skiet haar antwoorde skoot vir skoot uitmekaar met ’n ander goed gemikte strikvraag.

    En nog een.

    En nog een.

    Totdat sy dink iets in haar verstand gaan versplinter.

    Die dorpsmense het nooit uitgevra oor Alexander nie. Eerder sy bestaan soos ’n aansteeklike siekte behandel. Weggehol, die rug gekeer, anderpad gekyk. Ewigdurende kwarantyn. Miskien sou hulle beter verstaan en meer uitgevra het as sy die naam van die siekte vroeër vir hulle kon uitspel: Alexander is outisties; iewers in sy gene skort die skakel met liefde en gewete.

    Maar sy kon nie, want sy het self nie geweet nie. Teen die tyd dat sy geweet het, was die brûe rondom haar lankal afgebrand. Toe sy dit kón uitspel, het niemand meer belanggestel om te weet nie. Net padgegee voor Alexander se bisarre gedrag en hul ornamente en katte en kinders en potplante teen hulle bors vasgedruk voor hy hulle kon beetkry.

    Gunter het ook nooit in haar sake rondgedelf nie. Miskien sou dit gehelp het ás hy dit gedoen het, want dan sou sy tydsaam daar by hom op die kraalmuur kon leer om sin te maak uit die wanorde; sou die antwoorde en gebeure helderder in haar kop aangeteken staan. Maar Gunter was nie ’n sielkrapper nie. Inteendeel, party Sondae het hulle beswaarlik gepraat. Net in stilte op die kraalmuur gesit, gekyk hoe stap Lucy in sirkels met Alexander op haar rug. Soms het Alexander stadig vooroorgekantel en op die perd se rug aan die slaap geraak. Sodra hy slaap, het die perd opgehou met loop en hangkop gaan staan en nie ’n voet versit voor Gunter nie die slapende vrag afgetel het nie. Baie Sondae as sy Alexander en die perd sit en dophou het op hulle sirkelpad, het sy gewens sy kon regkry wat die perd kon regkry: om Alexander te dra en te dra tot hy slaap, om sy verkeerdom ritmes te verstaan.

    Gunter, hoe weet die perd Alexander slaap? Ek bedoel, dis tog ’n dier.

    Hy het skeefweg na haar geglimlag. Bruin oë vol warmte. Diere is anders as mense, Ingrid.

    Dink jy Lucy het ’n siel soos ’n mens?

    Wie weet? As sy sielloos was, sou sy nie die instink gehad het om te weet Alexander slaap nie. En as sy ’n instink het, moet sy seker ’n siel hê.

    Sê nou diere het regtig siele …

    Moenie krap nie, Ingrid. Dis goed waarop daar nie antwoorde is nie, dis sinloos om daaroor te tob.

    Hy het geweet sy wou met ’n ompad deur die siel van die perd by haar eie siel uitkom; dalk by syne. Soms het hy na haar gekyk soos ’n heilige wat besig was om die paaie van haar verstand na te loop. Woordeloos te soek vir klowe en brûe, langpaaie en kortpaaie. Soms het sy gewens hy wou na haar kyk soos ’n man, haar liefhê. Met sy hart én sy lyf. Haar van die kraalmuur aftel en teen sy kakiehemp laat aanleun. Haar na sy groot wit huis met die groen hortjies toe neem en vir haar tee met warm melk maak. Sy hande na haar uithou en sê: kom na my toe, Ingrid, kom ek gaan wys jou die kamer en die bed waar ek snags slaap.

    Maar hy het nie.

    En tog, oor baie nagte heen, wanneer Alexander haar aan haar nagrok deur die huis getrek het om kasdeure toe te maak en los vloermatte haaks te skuif of ’n druppende kraan toe te draai, het sy bly hoop dat Gunter haar eendag sou liefhê.

    Hierdie man is anders as Gunter. Slu. Kliphard. Soveel ratser.

    Hoe oud was jou kind, mevrou Dorfling? Wanneer laas was hy vir ’n mediese ondersoek? Het jy hom al by ’n kinderspesialis gehad? Wanneer laas was jyself vir ’n mediese ondersoek of by ’n sielkundige? So, jy wás dus by ’n sielkundige? By wie, wanneer, hoekom? Hoekom het jy die terapie gestaak? Wat sou jy aanvoer as rede vir jou man se selfmoord? Hoe laat het jy op die bed gaan lê, voor of ná dagbreek? Is jy seker jy het werklik geslaap, mevrou Dorfling? Waar was die kind op daardie tydstip? Het hy gesig ondertoe of boontoe in die badwater gelê toe jy op hom afkom? Watter noodhulpmaatreëls het jy toegepas? Hoe bedoel jy dit het vrugteloos gelyk? Hoe het hy nege jaar lank met jou gekommunikeer as hy nie kon praat nie? Presies wat bedoel jy daarmee dat die kind net gromgeluide kon maak?

    Die kind.

    Alexander.

    Wat het hulle met sy tengerige liggaampie gedoen tydens die lykskouing? Hoekom bly sy die beeld oproep van ’n stukkende kind wie se organe soos los lobbe in sy maagholte ronddryf? Sy wens sy kan die dink uit haar kop losskeur. Dit gaan haar waansinnig maak. Sy wil hom nie dood sien nie. Soos sy destyds gewens het dit was nooit nodig om Dawid se lyk te gaan uitken nie. Want die grusaamheid daarvan het haar ’n knou gegee wat tot in ewigheid met haar sal saamloop.

    Laat die man maar vra wat hy wil en stuur waarheen hy wil. Sy sal enduit by die waarheid bly, soos die waarheid in haar kop opgeteken staan. Dit was háár kind. Op ’n wyse wat alle menslike verstand te bowe gaan, hét sy hom liefgehad. Al was hy ’n vuur wat alles en almal rondom hom verswelg het. Op die mees onverwagte oomblikke op haar afgestorm en met sy naels in haar gesig gegrou het. Knielend op die vloer gewieg het terwyl hy sy kop teen haar bene stamp en stamp, tot haar skene blou gekneus was. Met ’n uitdrukkinglose gesig van dagbreek tot skemeraand op die klavierstoel gesit en die swart tand van die F-kruis tot gekwordens toe met sy middelvinger gespeel het. Ritmies. Ta-tate-ta. Ta-tate-ta. Nagskim wat met die beiteltjie in die huis rondloop en pleister afkap. Tot op die kaal steen. Kap en kap en kap. Tot dit voel of die gekap van êrens binnekant haar brein teen haar skedel vashamer.

    Kap, kap, kap. Totdat daar nie ’n vesel van haar dink en weet was wat nie flenters gekap was nie. Vandat hy die beiteltjie die eerste maal ontdek het, sewe jare lank. Sonder dat die beiteltjie stomp word.

    Die kind.

    Alexander.

    4 Jeremia, en sy sit die koffiebeker in die vensterbank langs die kooi neer, jy moenie nou verder slaap en die brood laat staan en oorrys nie. As jy sien dit kom by die borande van die panne, moet jy dit in die oond sit.

    Sy weet dis so goed of haar gepratery dwarsdeur ’n sifdraad spat. Maak knaend of hy haar nie hoor nie. Omdat hy weet as hy haar hoor, moet hy hom oplig en sy hande uitsteek. En hande uitsteek is nou nie Jeremia se sterkte nie. As hy sy hande moet uitsteek om ’n bottelprop los te draai of domino’s te pak, ja. Daarvoor is hy alte fluks. Jimmele weet, daar’t al baie tye gekom dat sy sy kop met ’n piksteel wou inslaan.

    As die reenterigheid opklaar en die son kom altemits uit, moet jy die hoenderhok oopmaak. Maar as dit weer kom toetrek, moet jy die hoenders injaag hok toe. En jy moet droë brandhout inbring vir môre. Ek wil nie t’rugkom na ’n stink gerookte huis toe nie. Ek gaan juis grootkerk toe om my hart te loop skoonwas. Moet nou nie dat ek my in ’n vegtery oor brood en brandhout en hoenders kom vasloop nie.

    Hy lê en kyk haar net aan asof sy gesuip is. Die jimmele moet haar help die dag as sy Jeremia vasvat en die lewe in sy lyf in ruk.

    Hóór jy my, Jeremia?

    Hoe kan ek jou nou nie wil hoor nie? Jy praat dan binne-in my gesig!

    Ek vra maar net. En jy moenie dink ek is so onnooslik om nie te sien daar’s van my godsbotteltjie se geld weg nie. Dis sendinggeld wat vandag moes saamgegaan het grootkerk toe. Die Here sal vir jou hard slaan as jy met sy botteltjiegeld loop staan en dominoskuld betaal.

    Hy draai op sy sykant en trek die kooigoed tot teen sy nek. Ag gottatjie, Miriam, los my uit!

    En Hy sal vir jou onderstebo slaan as jy sy Naam so ylik oor jou lippe laat kom.

    Sy moet hom eerder uitlos. Voor sy ’n kopaar bars.

    5 Die beknopte kantoor by Moord en Roof ruik na deurslagpapier en stempelink en sigaretstompies. Die venster is toe en die gebrek aan ventilasie maak haar naar en swewerig.

    Wanneer het sy laas geëet? Gisteroggend? Sy kan nie onthou nie. Gister lê ligjare ver. Miskien sal hy vir haar koffie en ’n stoel gee as sy na sy sin antwoord. Nee, hy sal nie. Heeltyd nog gee sy al die antwoorde wat sy ken en hy bly ontevrede.

    Die man kyk op van die vaalbruin lêer. Sy turksvyvingers tik met ’n potlood op die lessenaarblad. Ta-tate-ta, ta-tate-ta. Hou in hemelsnaam op! wil sy roep. Moenie maak soos Alexander met die F-kruis gemaak het nie!

    Mevrou Dorfling, en hy sit die potlood neer, lê agteroor op die draaistoel. Jou kind is dood, maar jy wys geen hartseer nie. Hy kruis sy hande agter sy kop, kyk haar bevraagtekenend aan.

    Ag, Here. As sy net nie so dodelik moeg was nie. Ek ís hartseer. Maar julle gee my nie kans of tyd om hartseer te wees nie. Hoe moet ek …?

    Hy hou sy hand in die lug. Nee, mevrou Dorfling, ek praat nie net van nóú nie. Toe ons vanmiddag by jou huis opgedaag het, was daar geen teken dat jy gehuil het nie. Ta-tate-ta. "Sê my, is jy hartseer?"

    Sy is lighoofdig. Daar is ’n doodse verlamming in haar armholtes. Ek dink nie ek kan meer huil nie. Die laaste nege jaar het my verhard. Ek kan nie onthou wanneer laas in my lewe het ek gehuil nie. Ek wíl, maar ek kan nie.

    Ta-tate-ta, ta-tate-ta.

    Die moegheid van baie dae se min slaap, en die vorige nag toe sy byna heeltyd wakker was, begin aan haar kragte kou. Hoe lank kan sy regop bly só sonder ’n stoel? Van een voet na die ander rondstaan. ’n Onsigbare hand rem haar ooglede af. Sy sweer sy gaan op haar voete aan die slaap raak. Rondom haar word die kantoorruimte en die man se gesig in ’n dun tonnel opgesuig. Dit sing in haar ore. Sy woorde verbuig tot ’n vae agtergrondgeluid.

    Toe haar lyf begin kantel, skrik sy regop.

    Kan ek asseblief ’n stoel kry? Ek is moeg en laas nag het ek niks geslaap …

    Hy kom skerp en skielik op haar af. Nee, mevrou Dorfling, nou stem jou oggend- en aandpraatjies hoegenaamd nie ooreen nie. Tot nou toe beweer jy dan jy was aan die slaap toe die kind verdrink het. Hoe rym dit?

    Vasgekeer. En dít oor ’n klein woordspeling. Ek bedoel, dit was te kort om as slaap gereken te word.

    Jy sê dan in die verklaring jy weet nie hoe lank jy geslaap het nie. En nou sê jy dit was kort.

    Ek … ek … kan ek ’n stoel kry?

    Hy sit die potlood op die bruin lêer neer, staan op en kruis sy arms voor sy bors. Stap dan heen en weer agter die lessenaar. "Kom ons begin van voor af, mevrou Dorfling. Héél voor. En ons gaan elke keer van voor af begin tot jy die waarheid praat."

    Ek praat nog heeltyd die waarheid. Ek weet nie hoekom glo julle my nie.

    Uit die feite tot my beskikking kán ek jou nie glo nie, mevrou Dorfling. En ek sal aanhou tot ek die volle waarheid by jou hoor.

    Kan ek nie asseblief huis toe gaan en eers gaan slaap voordat julle my verder …?

    Hy gee haar nie kans nie. Hoe dink jy, mevrou Dorfling, hóé het die kind in die bad vol water beland?

    Deur die venster sien sy dit raak skemer. ’n Oneindige moedeloosheid oorval haar. Want sy sien hy gaan waaragtig van voor af begin.

    Hy moes self ingeklim het.

    Was dit maar altyd sy gewoonte om self in die bad te klim?

    Nee, ek het reeds gesê hy het nie daarvan gehou om te bad nie. Ek dink hy was bang die propgaatjie suig hom in.

    Hy gaan sit en tel weer die potlood op. Toe besluit hy vanoggend, vir die eerste maal in nege jaar, om daarvan te hou en self in te klim?

    Dis al oplossing wat ek kan gee.

    Die speurtak kon géén tekens van geforseerde toegang tot jou huis vind nie, mevrou Dorfling, ook nie vreemde vingerafdrukke nie. Al die sleutels is daar. Daar was dus geen ongemagtigde toegang tot jou huis nie, en niemand anders as jy wat die kind in die bad kon getel het nie.

    Hy moes self ingeklim het.

    Hy trek ’n laai oop, haal ’n merkpen met ’n neongeel doppie uit, onderstreep iets in die lêer. Ek waarborg jou, mevrou: hy het nie.

    Ek verstaan regtig nie hoe jy so ’n bewering kan maak nie. Jy was immers ook nie daar om te kan oordeel nie. En ek gaan my nie laat intimideer om …

    Nee, mevrou Dorfling, en hy kom so vinnig regop dat die draaistoel tot teen die muur skuif, ek was nie daar nie, en die aangeleentheid het niks met intimidasie te make nie. Maar daar is ’n lykskouing op die oorledene gedoen. Lykskouings lieg nie. En Moord en Roof word nie ingeroep vir nonsens nie. Hy stap om die lessenaar en kom staan byna teenaan haar. Wat het daar werklik vanoggend met jou kind gebeur, mevrou Dorfling?

    Haar kop wil nie meer reguit dink nie. Ek weet nie.

    Hy draai na die vrouespeurder. Maak ’n aantekening dat die verdagte nie behoorlike samewerking wil gee nie.

    Uit die hoek van haar oog sien sy die vrou skryf iets. Sy skrik. Of sy dit wil erken of nie, sy is bang. Nie vir die waarheid nie, maar vir die onbekende terrein waarop sy beweeg. Kan ek asseblief ’n kopseerpil kry?

    Teken haar versoek aan, sê hy vir die vrouespeurder en draai weer terug na haar. Dis teen polisieregulasies om medikasie te verskaf tydens ondervraging. Antwoord nou my vraag: wat het daar werklik vanoggend met jou kind gebeur?

    Hy gaan nie ophou nie. Waaragtig nie. En haar kop wil bars. Hy het verdrink. Ek weet niks meer as dit nie.

    Hoe het hy dan in die bad gekom?

    Sy moet dink; herroep presies in watter volgorde die nag

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1