You are on page 1of 5

Vir Versindaba

Dames en here, ek is bly om by monde van Alida Potgieter hier in Calvinia


by julle te mag wees. Sy was so gaaf om bereid te wees om wat ek te sê het
vir julle voor te lees. Ek wil hê dit moet duidelik wees dat dit my woorde is,
nie Alida s’n nie, ook die sydelingse opmerkings. (Dis natuurlik lafhartig van
my om my onhebbelikheid in ’n ander se mond te lê.)

My dank aan Nicol Stassen, my mede-digters Louis Esterhuizen en Marlise


Joubert, en die ander Proteaanse mense vir hierdie gebaar. Omdat dit van
julle kom en omdat ek nog altyd respek en bewondering gehad het vir julle
werk en veral vir wat julle met Versindaba vir die poësie doen, waardeer ek
dit van harte Dis grootliks die rede waarom ek die prys aanvaar. Tog wil ek
byvoeg – as ek my metafore mag mix – dat ek hoop julle lepelstele lank
genoeg is om nie julle tonge te hoef verbrand of verpand nie, noudat julle by
wyse van spreke vlooie onder ’n groter karos geword het. Ek terg maar. Ek
weet julle sal julle onafhanklikheid behou en julle bergkoninkryk sal gedy
soos Lesotho destyds toe Mosjesj sy brief vir koningin Victoria geskryf het.

Dankie vir die prys. Maar op die gevaar af dat dit mag lyk asof ek in die sop
spoeg wil ek nietemin beswaar aanteken. Dis nou in die algemeen. Ek het dit
al by geleentheid gestel dat die toekenning van literêre pryse ’n onding is.
Mens kan mos nie na gedigte en digters kyk asof hulle in wedywering is en
op so ’n manier ’n valse en oppervlakkige waardestelsel bevorder nie !
Reklame, die mark, die dwingelandy van die spektakel wat die soeklig
verplaas na die skrywer liewers as om dit op die gedeelde skryfwerk te hou –
dis tog nie álles nie. Veel beter – dit het ek ook al voorheen bepleit – dat

1
ander maniere gevind word om jong digters aan te moedig.

Kan mens dan nie ’n Fonds stig wat jonger genote en genieters ’n mate van
finansiële onafhanklikheid sal bied nie, al is dit ook slegs vir die tydjie
benodig om ’n bundel klaar te skrywe of ’n reis te onderneem ? Gedigte skryf
is ’n futiele aktiwiteit en op uitsondering na, soos in my geval, byna geheel
en al sonder noemenswaardige geldelike beloning. Die vertaal van verse is
nog meer ondankbaar en nog minder lonend. Dis hoekom ek glo jonger
digters en vertalers behoort stelselmatige ondersteuning kry. En dat die steun
uit ons eie geledere moet kom, nié van die staat nie. Die Suid-Afrikaanse
staat (ek gaan weer my beelde meng) is die ANC se melkkoei, oftewel ’n
vark wat almal nog uit huis en haard gaan vreet. Soos hulle voorgangers, het
die huidige bestel geen aanvoeling vir die noodsaaklikheid vir ’n gemeenskap
van kreatiwiteit wat grense bevraagteken en verstel nie : hulp uit daardie oord
sal daarom altyd mondjiesmaat, voorwaardelik en partydig wees.

Ek argumenteer natuurlik nou nie dat ouer siele soos ek nie ook oor die weg
gehelp moet word nie. Dis goed dat ons digters en skrywers wat as ware
skimmel in die tuig geword het erkenning kry vir ons werk, al is dit by wyse
van genadebrood - maar seer sekerlik nie pryse of beurse nie. Hoekom nie
liewers ’n ryperd of ’n bungalow’tjie by die see of ’n geborgde bord kos een
keer per dag by die Da Gama restaurant in die Kaap nie ? Om ouer digters te
wil beloon asof hulle nog vars werk lewer is in elk geval ’n teenstrydigheid.
Mens kan mos nie groot drome skryf met ’n stywe lyf en ’n slap tong nie.
Poësie is vir die drif en die alwetendheid en die skeppingsdrang van die
jongeres (of dan dié, soos Yeats, wat te oud geword het om te onthou hy is
nie meer jonk nie) – voordat die herhaalde veldslae van verloor en van twyfel

2
jou lei na besinning se slagpale waar jy al mompelende jou woorde aftel soos
bidsnoerkrale op soek na sin.

Sien, dis hoekom ek vir Nicol-hulle wil vra om hierdie toekenning van
vanaand te stort in ’n fonds vir die aanmoediging van jonger digters. Indien
so-iets reeds bestaan binne Versindaba se bestek, soveel te beter. So nié, wil
ek julle in alle eerbied versoek om die bedrag eenkant te hou en ander
instansies te vra om by te dra tot ’n steunfonds wat soos julle goed dink
behartig kan word. Met die hoop dat julle die implikasies van daardie mooi
woordjie behartig (be-hart-ig) in gedagte sal hou.

Indien ek nog ’n bietjie meer gebruik mag maak van die geleentheid, wil ek
twee verdere sake aanroer. Die een, wat aktueel geword het, is dié van die
beoogde Sensuurhof en die Stalinistiese wetgewing wat dit moontlik gaan
maak vir alle sogenaamde Intelligensie-agente, en ander diewe en trogvrate
ook, om hulle onbekwaamheid en gekonkel onder ’n kombers van
geheimhouding en intimidasie weg te steek. Ek hoop almal van ons sal
aanhou om hierdie beplande beheer van die Partystaat oor inligting wat
deursigtig en vry bekombaar behoort te wees, hand en tand te beveg. Ons
behoort ten minste te kan weet hoe en deur wie ons verneuk word. En moet
tog nie dat ons op sleeptou geneem word met holle argumente van ‘kultuur’
of ‘meerderheid’ of ‘die volk’ nie…

Die tweede kwessie is Palestina. Mag ek glo dat die lot van onderdrukte
gemeenskappe ons altyd na aan die hart sal lê ? Ek is daarvan oortuig dat die
besetting van Palestina, die besteling van die Palestiniërs se grond en huise
en olyfbome en geld, en hulle daaglikse vernedering, dié groot internasionale

3
morele uitdaging van ons tydvak is – soos die Holocaust of die oorloë in
Viëtnam of Apartheid in vroeër jare. Ek glo dat ons as skrywersvolk alles wat
ons kan behoort te doen om ’n toevlugsoord te bied vir Palestynse skrywers
en kunstenaars.

Die bundeltjie wat vanaand aandag gekry het is hoeka, soos julle seker weet,
’n voortgesette gesprek met die persoon en die werk van die Palestynse
digter, Magmoed Darwiesj – by wyse van ’n soort tweespraak. Mag dit julle
belangstelling prikkel om na sy gedigte te gaan kyk. Ek weet daar is van sy
boeke beskikbaar in die Protea Boekwinkel.

Vergun my om af te sluit met die gedeeltelike aanhaling van opmerkings wat


Magmoed Darwiesj gemaak het in Ramallah by geleentheid van die besoek
van ’n aantal skrywers. Ek was bevoorreg om deel te kon wees van die groep.
« Wat is die plek van poësie in ons barbaarse tye ? » het hy gevra. « Poësie is
kwesbaar ten spyte van haar metaforiese steuning op die krag van sy en die
fermheid van heuning. Broos, want die werk om die siel te verander en die
hart groter te maak is langsaam en onsigbaar. Soos met die weerklank van ’n
donker droom kan sy nie wegkom van haar beeld as die dogter van
eensaamheid en die buitenste kant nie, al bind sy ook die intieme en die
universele. Dit sal digters nie loon om daardie eensaamheid te ontken nie,
nóg moet hulle dit verheerlik ; hulle moet liewers aanhou om ewige reisigers
te wees tussen die binne en die buite. Dis aan hulle oorgelaat om die drag
vrae oor die nut van poësie ligter te maak. Dis hulle wat die
vreesbevangendheid van hulle kuns behoort te hernieu deur ’n nog groter
skeppende angs – want hulle sal nooit vrygeskeld word van die poëtiese
oopbloei nie . »

4
En hiermee volstaan ek. Met groete vir julle almal, met dank vir die mooi
dinge waarmee julle besig is, en met spesiale dank aan my uitgewer wat by
wyse van spreke die ekstra myl moes loop om vanaand namens my hier te
praat.

Breyten Breytenbach,
New York, September 2010

You might also like