You are on page 1of 9

Nǀuu: Swaargewigtaal

van Upington
By die afsterwe van Hanna Koper in Maart vanjaar en Griet Seekoei in Mei,
oorleef nog net twee moedertaalsprekers van Nǀuu: Ouma Katrina Esau en
haar broer Simon Sauls van die ǂKhomanigemeenskap by Upington. Maar
Ouma Katrina wou hierdie lot nie gelate aanvaar nie.

Die Khoisantale van Suid-Afrika bestaan tradisioneel uit drie families, te


wete Kx’a (Ju) van Angola, Namibië en Botswana; Khoe-Kwadi wat die
lewenskragtige Khoekhoegowab (Nama, Damara) insluit; en Tuu of Taa!-
Kwi wat voorheen tot so ver oos as Lesotho en Chrissiesmeer, en
suidwaarts tot in die Boland voorgekom het.

1
Nǀuu is die laaste oorblywende lid van die Ui!-tak van die Tuufamilie. Volgens 19e eeuse historici
het die sprekers van Nǀuu-dialekte in Gordonia gewoon, begrens deur die Oranjerivier aan die

suide, die Langeberge aan die ooste, die Moloporivier in die noorde en die Namibiese grens aan
die weste. Die uitgestorwe ǀXam, die taal van die leuse ǃke eː ǀxarra ǁke op die landswapen, was ook

‘n lid van die Ui!-tak van Tuu. ǀXam is ten suide van die Oranjerivier in Boesmanland gepraat deur
die ǀXam-ka ǃʼē by onder meer Strandberg en Katkop in die Achterveld.

Nǀuu is ‘n werkwoordvorm, en die sprekers van die taal het na hulleself as Nǁngǃ’e (mense) verwys.
Die Noord-Kaap se amptelike motto, Sa ǁʼa ǃainsi uinsi, is Nǀuu vir "Ons is op pad na ‘n beter lewe”.

Ouma Katrina Esau se ywer om die taal te laat voortleef is beloon met die publikasie van ‘n
drietalige Nǀuu-Engels-Afrikaans leesboek, Ouma Geelmeid ke k'xu ǁxaǁxa Nǀuu. Die boek,

saamgestel deur Drs Matthias Brenzinger en Sheena Shah van Universiteit Kaapstad se Centre for
African Language Diversity (CALDi), het die ATKV se 2017-toekenning in die afdeling

Woordeboeke ontvang.

2
Die krimpende ring van Nǀuu-moedertaalsprekers het die afgelope jare deeglike mediadekking
ontvang. Wat egter minder bekend is, is dié taal se merkwaardige rykdom aan foneme. 'n Foneem
is 'n spraakklank se mees elementêre strukturele komponent. 'n Voorbeeld hiervan in Afrikaans is
die klank /t/ in die woorde tak, stand, water, en kat. Artikulerings van /t/ word hier as dieselfde
klank beskou al word dit in elkeen effens anders uitgespreek.

Foneme bestaan uit verskeie herkenbare spraaksegmente wat fone genoem word. In ons
voorbeeld bo word die /t/ in tak geaspireer [tʰ], terwyl die /t/ in stand nie geaspireer word nie [t].
Fone verwant aan dieselfde foneem, soos hierdie [t] en [tʰ], word allofone genoem.

Die aantal foneme in ‘n taal word deur die klank-inventaris bepaal – ‘n geslote versameling van
klinkers, medeklinkers (wat klieks insluit), sekere diftonge en/of toonkleure soos dalende of
stygende stemtone.

Geen enkele spreker of 'n woord kan nuwe foneme by 'n taal voeg nie, want fonemiese

verandering is 'n tydsame, geleidelike proses. Die opname van /z/ in Afrikaans (uit Engels) is
byvoorbeeld relatief nuut en die verspreiding daarvan is oor die algemeen beperk. ‘n Mens kan

verwag dat die Engelse /j/ uiteindelik ook opgeneem sal word weens die voorkoms van
persoonsname soos Jimmy, James, Johnny en Jacques. Dis reeds ‘n volwaardige foneem in Kaapse

Afrikaans.
3
'n Foneem-inventaris is aan ‘n unieke stel reëls onderhewig. Die fonologiese reël genaamd

“fonotaktiese beperking” omskryf 'n taal se aanvaarbare kombinasies van klanke. Byvoorbeeld, in
Afrikaans word die klank aan die einde van /sing/ en /bring/ tot die einde van ‘n lettergreep

beperk, maar in Zulu mag dit ‘n lettergreep inlei, soos die werkwoordprefiks “ngi-“ vir die eerste
persoon enkelvoud.

Ander fonologiese reëls hou verband met die wedersydse invloede van klanke wat by mekaar
aansluit, of verwys na prosesse soos assimilasie, dissimilasie, byvoeging, weglating en metatese. In

die komplekse fonotaktiek van Ouma Katrina Esau se geliefde N|uu vind ons ‘n vorm van
vokaalharmonie sowel as ‘n spesiale stel voornaamwoorde wat met ‘n kliek begin.

4
Die wonder van Nǀuu is sy 114 foneme – indien /t/, /d/ en /f/ wat net in leenwoorde uit Afrikaans

voorkom, bygetel word. Daarvan is 45 klieks, 30 nie-kliek-medeklinkers en 39 klinkers. Vergelyk dit


met Duits se 45 foneme, Engels se 42, Afrikaans en Frans met 39, en Moderne Standaard-Arabies

se 32. Die wêreldwye gemiddelde is 40.

Let op dat aansienlike verskille bestaan in die berekening van 'n taal se aantal foneme. Dit spruit

hoofsaaklik uit die oorweging van klieks as eenhede of as groeperings. Daarom bevat Brugman se
2009-inventaris 163 foneme in !Xóõ teenoor Miller se 119 in 2011. Klieksegmente met ‘n maat

(soos /g!/) kan as unieke fonemiese eenhede beskou word, of dit kan as 'n groepering van foneme
geklas word. Die probleem is dat die kliek en sy maat gelyktydig artikuleer word, soos in die geval

van nasalering.

5
Daar is ook ander swaargewigte naas Nǀuu op die speelveld vir foneme. ǃXóõ, wat deur die ǃXoia

van Botswana en Namibië gepraat word, bevat minstens 58 medeklinkers, 31 klinkers en vier
toonkleure, terwyl Maddieson se inventaris (2013) volstaan op 122 foneme, waarvan 83 klieks is.

Verder noord is Juǀ’hoansi, deel van die !Kung dialekkontinuum in die Kx’a-familie, wat ook ryk met
klanke bedeeld is. Met vier toonhoogtes, 30 klinkers en 89 medeklinkers – waarvan 48 klieks is –

beskik Juǀ’hoansi volgens sommige taalkundiges oor altesaam 123 foneme.

Daar is natuurlik ook foneem-benadeelde tale, soos Rotokas op Bougainville Eiland naby Papua
Nieu-Guinee. Dié taal met vyf klinkers beskik oor ‘n skrale ses medeklinkers, met ‘n totaal van slegs

elf foneme. Rotokas het drie stemlose medeklinkers /p/, /t/ en /k/ en drie stemdraendes wat uit
drie stelle allofone bestaan, te wete [β, b, m], [ɾ, n, l, d], en [ɡ, ɣ, ŋ]. Enigeen van die klanke binne ‘n

stel dien as ‘n aanvaarde artikulasie van die foneem.

6
Sekere tale van Indië, die Kaukasus en Noord-Amerika staan bekend vir uitgebreide foneem-

inventarisse. Sanskrit en haar dogtertaal Hindustani beskik oor 48 foneme elk, terwyl Marathi en
Sinhalees elk 40 het. Die uitgestorwe Ubykh wat in die Noordwes-Kaukasus en Turkye voorgekom

het, het oor 2 fonemiese klinkers en 84 fonemiese medeklinkers beskik. Vier daarvan is net in
leenwoorde of klanknabootsing gebruik, wat op ‘n totaal van 82 foneme neerkom.

Lewende Noordwes-Kaukasiese tale soos Abkhaz, Adygye, Cherkess en Kabardies het gemiddeld
tussen 50 en 60 foneme elk. Dan volg die Na-Dené-tale van Alaska, Kanada en die suidwestelike

VSA. Die Apache- en Chiricahuatale het gemiddeld tussen 38 en 45 foneme elk, terwyl Navajo met
sy 34 medeklinkers, 12 klinkers en ‘n onderskeid tussen hoë, lae, stygende of dalende toon, op 49

foneme inweeg.

Geen ander taal kom egter naby die Kx’a- en Tuu-families se oorvloed nie. Die klank-inventaris van
die Kx’a- en Tuu-families is die versinnebeelding van fonologiese kompleksiteit, en verdien

vermelding as die wêreld se onbetwiste foneemkampioene. Dit behoort genoeg rede te wees om
Ouma Katrina Esau se inisiatief te ondersteun, vir die herlewing van Nǀuu, ‘n oer-taal van
oorsprong in Suidelike Afrika.

7
BRONNE

Beamstrong, Patsy. One of the last speakers of SA’s oldest language dies. DFA, May 28, 2020.
Brenzinger, M., Shah, S. Writing for speaking: The N|uu orthography.
Brugman, Johanna Christina. Segments, tones and distribution in Khoekhoe prosody. 2009.
Colarusso, John. (2014). The Northwest Caucasian languages: A phonological survey. 1-480.
Curnow, Timothy Jowan. Review of The Athabaskan Languages: Perspectives on a Native American Language
Family. Language, vol. 79 no. 3, 2003, p. 651-652. Project MUSE, doi:10.1353/lan.2003.0151.
Dlamini, Penwell. Meet the only 4 people on Earth who speak this ancient SA language.
Exter, Mats. Inaugural-Dissertation zur Erlangung des Doktorgrades der Philosophischen Fakultät der Universität
zu Köln im Fach Allgemeine Sprachwissenschaft vorgelegt von Mats Exter aus Ebersberg Köln, 19.November 2008
Fleming, Luke. Phoneme inventory size and the transition from monoplanar to dually patterned speech. Journal of
Language Evolution, 2017, 52–6Luke Fleming*Universite ́ de Montre ́ al, Montreal, Quebec, H3C 3J7, Canada
Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis. Menán van Heerden, Menán du Plessis.
2018-02-15. www.litnet.co.za/indigenous-khoisan-languages-interview-menan-du-plessis/
Kerry Jones (2019) Contemporary Khoesan Languages of South Africa, Critical Arts, 33:4-5, 55-73, DOI:
10.1080/02560046.2019.1688849
Ladefoged, Peter; Maddieson, Ian (1996). The Sounds of the World's Languages. Oxford: Blackwell. pp. 63, 80– 81.
Language statistics & facts. Vistawide World Languages and Cultures.
https://www.vistawide.com/languages/language_statistics.htm
Miller, Amanda (2011). "The Representation of Clicks". In van Oostendorp, M.; Ewen, C.; Hume, E.; Rice, K.
(eds.). The Blackwell Companion to Phonology. New York: Wiley-Blackwell
Miller, Amanda L. The Sounds of Nǀuu: Place and Airstream Contrasts by Amanda L. Miller, Johanna Brugman,
Bonny Sands, Levi Namaseb, Mats Exter and Chris Collins. Working Papers of the Cornell Phonetics
Laboratory 2007, v.16, pp. 101-160
N|uu: South Africa’s oldest San language, with only 2 people on Earth who speak this ancient SA language.
Culture History, June 8, 2020. https://hadithi.africa/2020/06/08/
Shah, S. & Brenzinger, M. (2016). Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu. Cape Town: CALDi, University of Cape
Town.

8
Teks deur Pieter Uys, Augustus 2020

You might also like