You are on page 1of 14

ʼn Moeilike Man

(Henning Janse van Vuuren)

Désiré Vermeulen tuur asof gehipnotiseer na die helder blou lug, die grinterige wit riwwe

teen die skurwe bergreeks en die skakerings groen langs die gruispad – die vygies wat soos

vingers uit die growwe sandkorrels na bo reik.

“Is dit dennebome? Daar oorkant teen die hang.”

“Jy vra my vas ...” Rickard skuif sy fokus na die haarnaalddraai voor in pad, “te ver om

te sien. Ek herken die aalwyne,” glimlag hy onder sy snor, “en die stink-eragrostis.”

“Ek wil hierdie skilder. Ek moet. Die sonlig, die yl vlieswolkies wat soos dwaalgeeste

oor die Karoolandskap ... brrrr ... ek kry skoon koud. Cirrostratusse.” Désiré blaas hoorbaar

asem uit en ril.

“Dit is April, dit ís koud.” Hy kyk vlugtig na haar. “Jy darem oukei?”

“Ja. Kyk, daar voor lê Avontuur. Wat ʼn klein ou plekkie.”

Hulle ry verby, Uniondale toe.

“Meneer Vermeulen, en as ek die vrymoedigheid kan neem om te noem, ek het darem al

voorheen as hoof waargeneem.”

Rickard merk ʼn tikkie verwyt om Benjamin Damons se skerp mondhoeke. “Noem my

gerus op my naam.”

1
“O ... goed. Ons is maar ʼn klein gemeenskappie en probeer die naam van ons dorp en

onse skool hoog hou. As u begryp. Mevrou Lets, haar aandadigheid, wat ʼn skande...”

Rickard takseer Damons se wakker donker oë teen sy soel vel. Van ver af dryf die reuk

van rook aan. Hy versit sy korter been teen die ongemak. “Ja, dit gebeur ongelukkig oral.

Goed, Benjamin, dankie vir jou tyd. Ek sien jou en die ander op die sewentiende om agtuur

in die personeelkamer.”

Hulle skud blad en drentel geselsend hek toe.

“Ekskuus. Hier bel my vrou nou. Hallo, Désiré. En?”

“Haai Rickard, kan jy gesels?”

“Ek kan. Ons is sopas klaar.”

“Ek staan buite ʼn ouerige huis wat ʼn lekker groot, omheinde erf vir Freud het. Dit is ʼn

hoekhuis op die randjie van die dorp. Idillies. Ongelukkig is hier tans geen gemeubileerde

verblyf in die dorp beskikbaar nie. Ag, hier te kort en daar te lank. Jy weet mos. Die agent

het my kom wys en die eienaar is gelukkig ook nou hier. Ek dink ons moet die plek vat. ʼn

Vreeslike gawe man. Maar hy wil eers met jou ook gesels omdat hy in die verlede al ʼn

bloutjie geloop het met huurders. Ek stuur vir jou ʼn pin drop. Roer jou litte. Die plek het wel

ʼn bietjie aandag nodig. En dit was presies 11:11 toe ons voor die huis stilgehou het!”

“Aha ...” Rickard lag stil. “Dit klink perfek, Désiré. Moet nêrens heen gaan nie, ek is

nou daar.”

ʼn Groepie opgeskote seuns in toiingrige klere sak op Rickard toe en bedel grootoog

en bakhand voor hy in die Toyota Fortuner kan klim. “Nee, ô’s gattie skool toe nie, Menee’.

Die geld is virre brooikie. Kanalla.”

2
Rickard haal ʼn noot uit sy bosak. “Op die negentiende wil ek al vier van julle hier by

die skool sien. Gehoor.”

“Dié lanie is sieke mal,” sê een terwyl die viermanskap laggend wegskarrel.

Rickard sug gedemp en staar ingedagte na die verrinneweerde klipskans op die

heuwel. BLERRIE LEKKER KAROO LAM LEKKERSTE BOEREWORS CHILLI BITES DROËWORS

staan op ʼn swartbord voor ʼn omheinde slaghuis geskryf. Hy ry rustig in die breë hoofstraat af

en verlustig hom aan die ou geboue: Standard Bank is spierwit met 1906 in swart vetdruk bo

die deur; daar is ʼn manjifieke ou kerkgebou met ʼn weerhaan hoog op ʼn toring; maar hy weet

ook dieper in die dorp, geleë agter die glorieryke geboue van weleer lê misbruik, armoede

en ellende.

Dit is ʼn rysige man met ʼn volmaangesig wat voor Rickard en Désiré in die leë voorhuis met sy

gerestoureerde plankvloere staan. Tim du Plessis. Hy het grys krulhare tot oor sy groot ore,

fletsblou oë en is seepglad geskeer; daarna het hy waarskynlik ʼn bevogtiger aangewend –

kosmetiese werk is ʼn moontlikheid. ʼn Kuiltjie skuil diep tussen sy ruie wenkbroue. Hy het

kleinerige voete vir ʼn groot man en dra stylvolle mokassin-skoene met ʼn netjiese grys

polonektrui oor sy boepie. Allure is alles.

“Het julle eie huisraad?” vra hy soeserig en kyk Rickard emosieloos aan.

“Nie hier nie. Nee, ons sal in George die nodigste gaan aanskaf om ʼn jaar ... seker

minimum van ʼn jaar hier te bly.” Rickard verskuif sy blik na Désiré. “Die plek, dis oud, maar

alles lyk sindelik en ... um, ja die erf is ideaal vir ons hond.”

“Freud gaan oral saam,” glimlag Désiré, lagplooitjies kreukel om haar donker oë.

3
Tim du Plessis se oë rus op Rickard.

“Ek verstaan jy het voorheen probleme met huurders ondervind, maar jy kan ons

vertrou,” las Rickard by.

Deidré, die eiendomsagent, snork saggies, “gmf, ek het al alles gehoor.”

Sy wil nog iets byvoeg, maar Tim lig sy hand hoog bo sy grys krulhare, wat haar

onkant betrap. “Niemand is feilloos nie, maar ék plaas elke mens hiér.” Hy aksentueer sy

stelling met ʼn vlugtige handbeweging. “Elkeen is hiér bo, in my oë; maar elke keer as ʼn

persoon my teleurstel sak sy ʼn trappie. Trappie vir trappie,” sê hy gemoduleer en wys

weereens met sy uitgestrekte vingers hoe die trappies laer sak. ʼn Diminuendo. “Vandag

hosanna, môre kruisig hom.” ʼn Onpeilbare glimlag vorm onder sy hawiksneus. “Ek is ʼn

moeilike man.”

Tim is ʼn grootmogol op die dorp, benadruk Deidré by wyse van innuendo terwyl ʼn

kokkerot eenkant oor die kaal vloer skarrel.

“Goed. As julle nie huisraad het nie kan ek ʼn klompie van my ou meubels waarvoor

ek nie eintlik plek het nie voorlopig aan julle beskikbaar stel. Wanneer wil jy intrek?” Hy kyk

stip na Rickard.

Die Fortuner draai links uit die Karoodorp aan die voet van die heuwels en Rickard vryf

ingedagte oor sy ken terwyl hy hardop mymer: “ ʼn Vreeslike gawe man ... het sy gesê.”

Die Fortuner versnel suidelik op die N9.

4
Désiré maak grootoog. “Dink jy my mensekennis my in die steek gelaat? Dare I say

again?”

“Ek hoop nie so nie, maar hy het vir my sulke koue oë. Soos ʼn vis.” Rickard raak aan sy

snor en kyk vinnig in haar rigting. “Ek dink nie hy het eenkeer tydens die hele gesprek

ordentlik met jou oogkontak gemaak nie. Vreemd.”

“Ag, ek glo nie jy moet te veel daarin lees nie.” Désiré druk liefderyk aan sy skouer.

“Ek is net bly ons het uiteindelik ʼn blyplek.” Sy sit ʼn rukkie ingedagte. “ ʼn Moeilike man. Is dit

wat hy gesê het?”

“Al moet hy dit dan self sê.”

Hulle bars uit van die lag.

Dit is reeds vuilskemer toe Rickard by die voordeur van die hoekhuis op die rand van die

Karoodorp instap.

“Hallo! Enigiemand tuis?!”

“Désiré Vermeulen is by die huis!” antwoord sy vrolik.

Hy tref haar in ʼn spaarkamer aan; haar wit oorjas en tekkies bont bespat, ʼn doek op

die esel. “Hoe was jou dag, Meneer?”

Hulle soengroet en hy plak hom op ʼn stoel in die hoek neer, vryf vervaard deur sy

hare en grinnik. ‘Kisboude, Picasso ... um ... jong, waar sal ek begin? Ek het een kind hoor sê:

“ma’ gots, man, hy’s dan mank” en ʼn graad tien dogter het my in my gesig vertel niemand

gaan hier kom fokken Engels kom praat nie. Dít in die Engelsklas.’

5
Sy staar verdiep na die skildery, asof in ʼn beswyming; dan na hom. “Ek sal dit nie kan

doen nie.”

“Ek probeer ʼn nalatenskap los. ʼn Beter wêreld.”

“Nogal. Goed vir jou. Ek het vroeër sjerrie teen die koue en iets om te eet laat

aflewer. Uber is oral. Sal ons by ons landheer se eetkamertafel gaan aansit?” Die kwas spat

uit haar hand en Désiré tree verskrik agteruit. “Shit!”

Rickard kom vervaard van balans orent.

Iemand hamer van buite teen die venster en Tim du Plessis se ronde gesig druk

spookagtig teen die ruit. “Ek het vir julle ʼn mandjie gebring!” roep hy en sy kop met die grys

krulhare verdwyn so vinnig soos wat dit verskyn het.

Rickard gaan maak die voordeur oop terwyl Désiré verklee.

“Hier val ons net in, dit is nie soos die stad nie,” verklaar Tim du Plessis met ʼn

niksseggende waai van die hand en maak hom op die rusbank tuis. “Julle sal ons gou

gewoond raak.”

Rickard probeer sy skoolhoof-stem: “Jy sal mens ʼn hartaanval gee, Tim. Laat weet

eerder as jy wil inloer. Jy het my nommer.”

“Kyk. In die mandjie is ʼn bottel wyn en ʼn verskeidenheid van kaas,” sê Tim.

Rickard glimlag toegeeflik toe Désiré ook indwarrel en oorkant Tim plaasneem. “Kan

ek vir almal ʼn glas wyn skink?” vra hy.

“Asseblief,” sê sy.

6
Tim groet afgetrokke in haar rigting en wend hom tot Rickard. “Ek sal net een glas

drink, maar ek drink nooit meer as een nie.” Hy beduie na die mandjie. “Daar is ʼn roquefort,

ricotta en pecorino. Of eet julle net cheddar?” Hy glimlag droog. “Ek wil die mandjie sommer

saamvat.”

“Ek verkies ʼn fromage blanc,” sê Désiré koel en van waar Rickard die wynbottel

oopskroef, hoor hy die subtiele verandering in haar stemtoon.

“In vino veritas. Jy het nou die dag genoem jy is geskei ... Tim. So wat doen jy vir

pret?” vra sy.

Daar volg ʼn uitgerekte stilte voor hy antwoord. “Ek ry George toe. Op ʼn Saterdag.

Dan gaan dans ek en ry die Sondag weer terug.”

Rickard gee vir hom ʼn halfvol glas wyn aan. “Deesdae hoef ʼn man darem seker nie

meer eerste te vra of iemand wil dans nie, of hoe?”

“Luister, as ʼn vrou my vra of ek wil dans, dan staan ek op en gaan dans met haar.

Wanneer ons klaar is, sê ek vir haar ʼn vrou vra nie ʼn man om te dans nie. Jý vra my nooit

weer om te dans nie en ek sal jou ook nie vra nie!”

Désiré kug. Wat ʼn parogiale uitkyk op die lewe. “Ek gaan die mandjie leegmaak.

Dankie vir die kaas, Tim.”

“A lady’s imagination is very rapid; it jumps from admiration to love; from love to

matrimony in a moment. Jane Austin,” haal Tim aan en kyk grandioos na Rickard. “Pride en

Prejudice.”

Rickard streel oor sy snor, momenteel te oorbluf om die gesprek verder te voer.

7
“Ek gaan reël vir die installering van ʼn alarmstelsel,” sê Tim dan ongestoord. “Hier is

van my meubels wat waardevol is. Erfstukke.”

Rickard sien uit die hoek van sy oog hoe Désiré haar oë rol en gemaak met die

wysvinger haarself deur die slaap skiet. Hy knik inskiklik. “Ek meen, ons het nie ʼn probleem

daarmee nie. Solank ons net self die kode kan verander.”

Désiré plak die mandjie onseremonieel langs Tim neer. “Hier is jou mandjie.”

Misgewas.

Helleveeg. Hy staar asof vasgenael na die muur. “Het jy vir my tandepasta? Wit?”

As sy hom ignoreer, sê Rickard. “Ek ... dink ons het.”

Tim sluk sy glas leeg, stap doelgerig badkamer toe en kom met ʼn buisie tandepasta

terug. Langs die gordyn druk hy tandepasta op sy vingerpunt en vul twee gaatjies teen die

muur. “Ek het hier geboor en vergeet om die gate te vul.”

Désiré begin onbedaarlik lag.

Hy staar belangeloos in haar algemene rigting voor hy homself verskoon. “Ons sien

mekaar weer.”

“Bel net eers,” sê Désiré strydlustig.

“Adieu.”

Hulle sien die voertuig in die donker vertrek.

“Jy was reg,” sê Désiré, “hy kon my nie een keer in die oë kyk nie. Wat ʼn enigma. Is hy

ʼn misoginis, dink jy?”

8
“M’m ... ek weet net ek hou van gouda,” lag Rickard en laat sak sy gesig moeg in sy

hande. “Ek dink hy het hom gewip. Dit raak koud, nè?”

Saterdagoggend skuins ná sewe skrik Désiré ontnugter wakker.

Buite die venster, soos ʼn pak voorspelers, staan ʼn groepie mans met Tim du Plessis,

wat skaapagtig glimlag, aan die spits.

“Rickard!” Sy skud aan hom.

“M’m..?”

Daar volg dowwe geluide van die dak se kant af, ʼn geskuifel op die sink.

Omdat die agterste slaapkamer byna teen die heining grens en ʼn afdak aangebring is

waaronder Désiré haar swart Swift parkeer, het hulle nog nie nodig gehad om die gordyne te

hang nie, dis privaat genoeg.

“Môre-môre, laatslapers,” groet Tim oor die onderste helfte van die kombuisdeur.

ʼn Leer is teen die huis staangemaak en ʼn verlengingskoord vanuit die buitekamer

aangelê.

Freud strek gapend en staan stertswaaiend nader.

“Wat op deeske aarde gaan hier aan?” vra Rickard onthuts,

“Is jy van jou donnerse trollie af! Kan jy nie sien ons slaap nog nie!” ontplof Désiré en

trek haar japon stywer toe.

9
“Luister, dis mý huis,” antwoord Tim saaklik. “Ek wil die geute skoon en geverf hê. Die

ander span is van TDP-Sekuriteit om die alarm te installeer. Soos bespreek. Johnny sal heel

week hier wees vir los werkies.”

“Ekskuus? Dis jou huis, maar ons huur hier! Wat verstaan jy nie? Jou gedrag grens

aan teistering,” tier Désiré.

“Prop vir hulle die verlengingskoord by die voorhuis se venster in, die hekkie se een

skarnier moet ook gesweis word,” las hy blasé in ʼn algemene rigting by.

Hulle gaap hom oorbluf aan.

Buite by ʼn vuurtjie, elkeen met ʼn dik jas aan en ʼn glas sjerrie in die hand. Dit is Vrydagaand

en snerpend koud ‒ bo hulle skitter die firmament.

“Johnny sê Tim skuld hom al drie weke se geld en hy moet self die verf koop. Ek het

vir hom ʼn paar rand gegee,” vertel Désiré.

Rickard brom knorrig onder sy snor. “Ons gaan ʼn plan moet bedink. Hy vee sy alie aan

ons af. Gmf ... ʼn leefstylghoeroe ... blykbaar was die skepsel al in ʼn paar musiekvideo’s ook

gewees.”

Hulle sien gelyk hoe brutaal aan die hek geskud word. Onder die straatlig is die

silhoeëtte van Tim se medusakop sigbaar.

“Ek kan dit nie glo nie, die domoor...” sis Désiré.

“Wie het ʼn ketting hier aangebring!” Die misnoeë lê vlak in sy stem. Ontgogel. “Julle

is onderduims!”

10
“Wag jy eerder hier,” sê Rickard bedaard, staan op en stap ʼn paar tree nader. “Ons

het die hek gesluit, Tim,” verduidelik hy ferm. “Dis naweek en ons is geregtig op ons

privaatheid. Indien jy redelik kennis gee, soos die kontrak vereis, dan laat ons jou binne as

daar iets gedoen moet word.”

“Jou mank moer!” fulmineer Tim, gee die hek ʼn brutale skop en klap sy bakkie se

deur sidderend agter hom toe. Die voertuig dreun straat-af.

“Ek dink hy’s dronk,” sug Rickard en gaan sit.

“Ek gaan reguit polisie toe. Hy praat nie só met jou nie! Ek sal hom ... ek sal hom ...”

Désiré snik van ontsteltenis en lek briesend oor haar lippe, freneties op soek na die regte

woorde.

“Dis oukei, Désiré.”

“Nee! Nee, dit is nie.” Nou driftig. “Die buurman hier agter, die ou oom ... ek het jou

mos gesê sy naam is Piet Plank. Hy het my vertel Tim se vrou het ná hulle egskeiding en voor

haar verdwyning in hierdie huis gebly. Een naweek toe sy weg is het hy al haar meubels uit

die huis laat verwyder. Sy het die Sondag by ʼn dolleë huis opgedaag! Niemand weet wat van

haar geword het nie.”

Rickard se oë rek geskok.

“Wat! Wag nou, wag nou. Verdomp, dit is óns naweek; ons gaan nie toelaat dat hy

nes skrop in ons koppe nie.” Hy streel oor sy snor. “Hoe vorder jy met die skildery? Is jy

gereed vir jou groot uitstalling in die Moederstad?”

“Ha moeder ... ek is oortuig hy het mommy-issues.”

11
“Impasse,” sê Rickard. “Dalk moet ons ander blyplek soek?”

I see a red door / And I want it painted black / No colors anymore / I want them to turn black

Désiré sing uitgelate saam, sy is in ʼn opgewekte luim. Die beeld kom uiteindelik

netjies uit die verf – konsepsioneel werk die landskap perfek.

Haar foon lui: Dis die pestilensie...

“Ek staan hier buite die hek,” blaf Tim, “julle het nie julle huur betaal nie!”

Désiré vee beide hardhandig hande skoon, haal diep asem en marsjeer uit. Deur die

tralies van die ysterhek gluur hulle mekaar bars aan.

Hy is doodsbleek. “Die geld was in, toe is dit weer uit!” In sy hand is ʼn bruin koevert

met ʼn deursigtige venstertjie.

Désiré vee oor haar foon se skerm, tik vlugtig en sy foon biep. “Bewys van betaling,”

sê sy sardonies. “Wat de hel is fout met jou? Gaan jy elke maand ʼn donnerse tantrum kom

gooi!”

“Jy is ʼn bemoeisieke vrou..!” snou hy. “Wat!” onderbreek sy. “Het jy ʼn probleem met

my omdat ek ʼn vrou is? Of omdat ek bruin is? M’m? Soos Johnny, wat jy nie wil betaal nie. Of

is dit omdat ek ʼn bruin vrou is?!”

Freud slenter lui op sy lang bene nader.

Tim du Plessis gooi sy kop agteroor, soos ʼn haan wat gaan kraai ‒ en hou dan die

koevert doodluiters na haar uit.

“Wat is dit?”

12
“Julle rekening by TDP-sekuriteit.” Met sy vlesige wysvinger beduie hy na iemand wat

in ʼn wit-en-blou bakkie onder ʼn boom oorkant die pad sit. “Monitering en reaksie.”

Désiré gryp die koevert, frommel dit op en smyt dit minagtend in sy gesig; verbaas

toe hy verskrik koes. “Gaan kyk, ek het nie die kontrak onderteken nie, ek het onderaan

geskryf: Get a life, loser! Ons wou nie sekuriteit hê nie, jy wou!”

Die bloed dreineer van voor af uit sy gesig, sy vingers wringend. “Jý ... vroumens, jy

ken my nie, ek is ʼn moeilike man.”

Désiré druk haar gesig woedend teen die koue tralies van die staalhek: “En jy! ken mý

nie! Jy sal tweede kom ... ek is ... ek is ... vat die pad, jy is lastig, jou donnerse eunug! Kom,

Freud.”

Tim vertoef nog vyf minute besluiteloos voor die hek; loop soos ʼn vasgekeerde dier

op en af.

Die glasbottel val uit haar hande, ontplof op die kombuisvloer en stukke glas, agurkies en

soutwater spat in alle rigtings.

“Hoe het jy ingekom!”

Hy glimlag onverstoorbaar kalm uit die hoogte, ʼn doodse kyk vlak in sy kil blou oë.

“Die ketting geknip. Ek het julle mos gesê, dit is mý huis.”

“Maak dat jy wegkom, jou kleindorpse buffel!” gil Désiré histeries.

Sy neusvleuels roer effens voor hy sy selfbeheersing verloor.

13
Rickard en Benjamin sit om die ronde tafel in Rickard se kantoor.

“Ek stem, ons fokus moet universiteitsvrystelling wees,” beaam Rickard.

Rickard se sekretaresse klop aan die oop deur en ʼn polisiebeampte stap pet in die

hand binne.

“Meneer Vermeulen...”

“Ja?”

Beide van hulle staan onseker op.

“Jou eggenote. Désiré?”

“Ja?”

“Sy is in aanhouding. Kom asseblief saam met my,” die konstabel glimlag wrang, “ma

se kind, ma’ sy is vir jou ʼn moeilike vrou!”

14

You might also like