You are on page 1of 139

1

Die ge-Zuma van die bye en die Malemase donkievye

Voorwoord
Hierdie bundel bestaan uit drie dele. Die eerste deel handel in hooftrekke oor my
kommentare en artikels oor die Suid-Afrikaanse politiek, veral waarby pres.
Jacob Zuma en die ejugdige Julius Malema betrokke is, die tweede is artikels oor
‘n meer internasionale aard en verskeie humorrubrieke, en die derde gaan oor
die Afrikaner en veral in die konteks van die onlangse volkstaatdebat.
Hoewel die inhoud net ‘n gedeelte van my pennevrug vir die eerste kwartaal van
2010 behels, was dit ‘n besige drie maande met onder meer die president wat
deur die oorsese pers beskryf is as ‘n Bill Clinton, Tiger Woods en koning Henry
die 8ste in een, en die leier van ‘n politieke party wat Malema daarvan beskuldig
het dat hy donkievye probeer verkwansel.
Die nuwe volkstaatdebat het verseker dat Afrikaners mekaar weer ordentlik met
die teerkwas bygekom het, terwyl die strydbyle geslyp en uitgehaal is rondom die
20-jarige herdenking van die Rubicon-toespraak.
Internasionaal is sake ook taamlik aan die roer, dikwels met olie as die bron van
kwaad.
Elke afdeling begin met die jongste artikels eerste.
Herman Toerien

Inhoudsopgawe

Deel 1 Zuma en Malema 3


Deel 2 Die wêreld in ‘n neutedop 35
Deel 3 Afrikanersake 113

2
Deel 1
Zuma en Malema

Nuuskommentaar: Gemeenskapspolitiek en Malema se stryd om die kalklig


Terwyl ‘n storm losbars oor die verskynsel van tenderpreneurs, met die
hooffokus op die luidrugtige Julius Malema, word ‘n groot politieke wedstryd
langsaan op die B-veld gespeel. Op hierdie veld sê gemeenskapspolitiek die vrot
viskop van Suid-Afrikaanse politiek die stryd aan.
Solidariteit voer die veldtog teen misdaad verder en maak nog meer briewe
bymekaar nadat die presidensie geweier het om die duisende briewe van
beswaar teen misdaad na afloop van die staatsrede in ontvangs te neem. Vanuit
die Vrystaat brei ‘n aksie oor die land se swak padtoestande nou landswyd uit.
Met laasgenoemde aksie is dit opvallend dat ‘n politieke party, die DA, hom nou
op hierdie skaal tot gemeenskapspolitiek wend. Tipies, en verkieslik, sou ‘n mens
burgerlike organisasies aan die spits hiervan wou sien, terwyl politieke partye
fokus op hul statutêre rol.
Dat selfs die amptelike opposisie hom tot gemeenskapspolitiek wend, dui in ‘n
mate die magteloosheid aan waarin die ANC se magsposisie die land in ‘n
beergreep beet het. Dié magteloosheid word verder onderstreep deur die
naatlose kritiekloosheid waarmee die ANC Jeugliga hom agter Malema skaar –
tot uiterste verleentheid van die land, maar ook die ondermyning van die land as
beleggersland.
Op dieselfde dag het ontevredenes by Orange Farm en daar naby by Sebokeng
oproerig geraak in nog ‘n manifestasie van gemeenskapspolitiek. Behalwe dat
laasgenoemde aksies elemente van geweld bevat, verskil dit van die ander
gemeeskapspolitieke aksies in dié sin dat hierdie mense ANC-ondersteuners is,
en juis vir die ANC gestem het om via die milde verkiesingsbeloftes hul
lewensomstandighede verbeter te sien. Ook hulle, en mense in soortgelyke
posisies elders in die land, ervaar ‘n gevoel van magteloosheid.
Hierdie situasies skep ‘n nagmerrie vir instansies en mense wat baie hoop op
buitelandse toerisme geplaas het om die wêreldbeker-sokkertoernooi positief te
benut. Die toernooi moet as enjinkamer dien om die land oor die langer termyn
as toerismebestemming te bemark.
In plaas daarvan dat die groter fokus op die land positiewe nuusdekking tot
gevolg het, kom die gebreke aan die lig: diefstal uit lughawegebruikers se
bagasie, die wreedheid van plaasmoorde, ‘n president wat – soos die
buitelandse pers mildelik berig het, sy lyf ‘n Bill Clinton, Tiger Woods en Henry
die 8ste in een hou, en dan is daar Julius, en nogmaals Julius met sy onwelkome
nasionaliseringspraatjies. Pas het die Britse pers die Engelse sokkerspan se
tuisbasis tydens die toernooi naby Rustenburg as ‘n vullisterrein beskryf.
In die geskiedenisboeke sal eendag van ons eie Julius opgeteken staan: “Ek het
gekom, ek het gesien en ek het die allerverskriklikste klomp bollie kwytgeraak.”
Ongelukkig gee Zuma self aan Julius die gesaghebbendheid wat hy so in
oordaad nie verdien nie. Die media word gereeld gemaan om Julius te ignoreer
want dit is al wat hy verdien. Diegene wat hierdie stelling maak, onderskat egter
die onverdiende gesag wat Zuma en die kalkligdief se ondersteuners aan hom

3
verleen. Dit wat Julius verteenwoordig, en waarvoor hy steun by jong mense
geniet, voorspel niks gods vir die land nie.
Die drywers van gemeenskapspolitiek is ook van die kalklig afhanklik om ‘n
impak te kan hê, en ongelukkig moet hulle vir hierdie kalklig meeding teen
iemand wat die meester daarvan is.

Nuuskommentaar: Oog op die bal


Met bykans 100 dae oor voor die groot Fifa-toernooi in Suid-Afrika afskop, word
nog meer kaartjies aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel, en boonop teen
verlaagde pryse.
Dit haal die media oorsee, soos ook berigte oor die wreedheid van
plaasaanvalle, pres. Jacob Zuma se poligamie en buite-egtelike kinders, Julius
Malema se nasionaliseringspraatjies, en misdaad in die algemeen.
Voeg hierby dat talle Suid-Afrikaanse entrepreneurs waarskuwings vooraf in die
wind geslaan het en blatant probeer het om die verwagte getal buitelandse
besoekers met hemelhoë pryse te melk.
Berigte oor korrupsie en misdaad wil maar nie gaan lê nie. Die regering se
antwoord op die misdaadprobleem was skynbaar om dit min prominensie te gee,
maar met ongekende lompheid is juis gesorg dat in die oë van die wêreld weerlig
trek – en boonop lyk dit nou of die regering hieroor volstruispolitiek speel. Die
weiering om die duisende briewe teen misdaad in ontvangs te neem gaan nog
lank hard by die regering spook.
Volgens sommige syfers word nou net die helfte van die getal buitelandse
besoekers verwag as wat aanvanklik verwag is, hoewel sommiges steeds volhou
dat die volledige kontingent te wagte kan wees.
Entrepreneurs wat duidelik nie ‘n afskaling verwag nie, is die koppelaarbedryf.
Volgens koerantberigte uit Bloemfontein lyk dit of die koppelaars, dikwels
Nigeriërs, vir niks stuit nie en selfs ontvoering inspan om meisies van so jonk as
13 jaar vir die groot geleentheid gereed te kry.
Intussen is ‘n nuwe woord ook gebore: Tenderpreneur. Die jongste
tenderpreneur wat aan die kaak gestel is, is Julius Malema, maar dit is
klaarblyklik net die oortjies van die seekoei. In die Vrystaat is alle provinsiale
tenders vir padbou en padherstel op die oomblik deur ‘n hofbevel op ys geplaas
nadat onsuksesvolle tenderaars lont geruik het. Een van Mangaung se
vernaamste straatherstelprogramme met die oog op die Wêreldbekertoernooi het
ook in die howe beland, ook weens vermoedens oor tenderbedrog.
In provinsies soos Noordwes gaan dit klaarblyklik nie beter nie.
‘n Gevolg van ‘n geknoeiery met tenders is dat te veel aan paaie per kilometer
spandeer word en dat die bou- en herstelwerk dan ook dikwels veel te wense
oorlaat. Uiteindelik is die begrote bedrae te min, en word agterstande opgebou,
met die kenmerkende slaggate die gevolg.
Uiteindelik lei die land se beeld en ekonomie daaronder.
Dit word algaande duideliker hoekom die wêreldbank korrupsie as die diefstal
van ‘n land se toekoms beskou.
Die gevaartekens dat die toernooi ‘n verdere wig in rassepolarisasie sou dryf was
toe blankes in die algemeen die skuld by heethoofde gekry het dat hulle minder

4
entoesiasties oor die toernooi sou wees, of selfs deur foutvindery dit aktief
probeer saboteer.
Intussen is ruim belastingbetalersgeld in die toernooi belê, sodat elkeen ‘n
belang by die sukses sal hê. Maar, so lyk dit nou, die fout is by die verkeerde
adres gesoek. Die groot sondaars is die regeringslui wat foute deur ‘n
boemerangspel probeer verdoesel het.
Pas het dit byvoorbeeld aan die lig gekom dat die SANW, wat veronderstel is om
die grensbeveiliging eersdaags by die SAPD oor te neem, beoog om minder
soldate te ontplooi en minder geld vir dié doel aan te wend as wat die SAPD
gedoen het. Die funksie is juis weer na die SANW terugverskuif omdat die SAPD
nie werklik die mas opgekom het nie. Trouens, Vrystaat Landbou het met ‘n
ambisieuse regsaksie teen die regering begin oor die ontoereikende beveiliging
van die grens met Lesotho, en dit word op die ys gehou na aanleiding van
beloftes vir beterskap deur die regering.
Nou blyk dit dat die weermag glad nie beplan om die grens met Lesotho te
beveilig nie, en so ook nie die grens met Namibië en met Botswana nie.
Niemand kan die kieser verkwalik as hy die indruk kry dat die regterhand van die
regering nie net dikwels nie weet wat die linkerhand doen nie, maar dat die
linkerhand dikwels ook nie weet wat die linkerhand verbrou nie.
Met ‘n effektief-onbewaakte Lesothogrens kan die regering hom maar by
voorbaat vetsmeer dat berigte oor vee- en weidingdiefstal en selfs plaasmoorde
volop kan wees terwyl die Fifa-toenooi aan die gang, en die oë van die wêreld op
die land gerig sal wees. Die regering kan hom by voorbaat oor die Lesothogrens
vir nog ‘n vernederende hofsaak regmaak om sy grondwetlike pligte na te kom.

Nuuskommentaar: Nie nou tyd vir Uhurugedagtes


“Ontvang hiermee julle politieke vryheid en alles sal vir julle daarby toegevoeg
word.”
Dit, min of meer was die woorde wat Kwame Nkruhma tydens Ghana se
onafhanklikheidsvieringe gesê het, en het die oormatige verwagtinge wat Uhuru
sou bring netjies onderstreep.
Die misplaaste Uhuru-verwagtings het in Afrika al geleidelik soveel klappe van
die werklikheid weg dat daar al stewige tekens van hande in die moue steek is,
maar in Suid-Afrika leef die gees van absurditeit in ‘n groot mate voort. Die
gevolg is dat einste Ghana ‘n hoër plek as Suid-Afrika op die persvryheidsindeks
beleef, en verskeie Afrikalande suid van die Sahara se onderwysstelsel beter
standaarde en resultate as dié van Suid-Afrika oplewer.
Die Suid-Afrikaanse grondwet is onlangs soos selde onder die vergrootglas
geplaas. Dit het uit talle oorde onder kritiek deurgeloop, en dikwels is die vinger –
darem nie die middelvinger nie – na die opstellers verwys.
Die debat het ook ‘n laertrekkery tot gevolg, maar niemand kan dié keer die
vinger wys na die konserwatiewer bevolkingsegment nie. Dit is die liberale
ondersteuners van die grondwet wat geledere gesluit het en die ore probeer
toedruk het vir die kritiek.
Vanoggend, in Volksblad, laat Beeld se redakteur Tim du Plessis hom opnuut uit
oor die deugde van die grondwet, en plaas die blaam vir die skending van die

5
grondwet op die regering. Hiermee argumenteer hy dat Suid-Afrikaners nie deur
die grondwet uitverkoop word nie, maar deur die regering. Hy argumenteer dat
die grondwet nog méér geskend sou gewees het as dit sterker klem op sekere
regte sou plaas.
In ‘n onlangse artikel het prof. Koos Malan egter ook ‘n ander perspektief hierop
gewerp. Volgens hom is die grondwet mildelik besaai met regte, maar gaan
mank aan gesag om hierdie regte te verskans. Malan het min ooghare vir die
Artikel 9-instellings wat deel van die wigte en teenwigte moet uitmaak, en is selfs
krities oor die howe se vermoëns. Afgesien daarvan dat kostes die hofroete buite
gewone Suid-Afrikaners se bereik plaas om hul regte te laat afdwing, word die
regters uiteindelik ook deur die uitvoerende gesag aangestel, soos nou uit die
omstrede aanstelling van adv. Moketedi Mpshe as waarnemende regter.
Was die grondwet so goed soos voorgegee is, sou so iets nie kon plaasvind nie.
Ongelukkig gaan die argument dat die grondwet ‘n gegewe is en dat water wat
onderdeur die brug is, te ene male gedane sake is ook nie volkome op nie.
Die grondwet is, anders as die oorgangsgrondwet wat boonop deur
onderhandelde grondwetlike beginsels gerig is, baie vaag geskryf.
Regsgeleerdes gebruik die uitdrukking dat ‘n wa en span osse daarbinne sal kan
draai.
Die verklaarde doel hiervan is dat die detail gevorm moet word. Dit behels dat
verskeie wette, soos die taalwet, nog geskryf moet word, dat internasionale
konvensie deur presedentereg en gewoontereg neerslag moet vind en die leë
kamers uiteindelik so volledig en toepaslik gemeubileer moet word.
Die voorvereistes hiervoor is dat die regbank volledig onafhanklik moet wees van
binnelandse politiek, en slegs deur internasionaal aanvaarde regsbeginsels
ondervang sal wees.
SEB-wetgewing druis egter reeds volledig in teen die grondwetlike doelstelling
van nie-rassigheid, regstellende aksie word as diskriminerende wetgewing
toegepas onder die vaandel van ‘n grondwet wat gelykheid waarborg,
onteieningswetgewing was al stewig op koers, lynreg in stryd met internasionale
verdrae waarvan Suid-Afrika mede-ondertekenaar was en vele meer wat op,
soos Volksblad dit in sy hoofartikel stel, die wys van die middelvinger vir die
grondwet neerkom.
Die kamers kan eenvoudig nie gemeubileer word terwyl instansies soos die
Black Lawyers’ Forum en soortgelyk nie net nog bestaan nie, maar openlik ras
as norm vir standpuntinname ook gebruik.
Uiteindelik – as genoeg mense saamstem dat die grondwet wel nie die
wonderwerk is wat voorgehou word nie, kan daar met erns aan die werk gespring
word om die leemtes aan te spreek. Dit sou onder meer behels die opbou van ‘n
fonds wat sterk genoeg is om die regering konsekwent deur hofaksies te stuit
solank hierdie weg nog moontlik is.
Wanneer dit weens strategiese aanstellings onmoontlik word, moet die
internasionale howe en tribunale gebruik word.
Terselfdertyd sal binne-gesprekvoering nodig wees en bly.
Nuuskommentaar: Demokrasie in aksie en verkiesingsbeloftes

6
In die praktyk is die nakom van verkiesingsbeloftes nie altyd so maklik nie. Selfs
die Amerikaanse president, Barack Obama wat op ‘n golf van euforie die Wit
Huis ingeseil het, voel die hamerhoue van realiteit, en op die oomblik kom daar in
die praktyk dadels van ondernemings oor die terugroep van Amerikaanse soldate
uit konflikgebiede. Trouens, in Afganistan moet die soldate eers vermeerder word
om te kan verminder.
Die VSA is egter nie die enigste Navo-land wat met hierdie taai toffie en
verkiesingsbeloftes opgesaal sit nie. In Nederland dreig die koalisieregering om
hieroor uitmekaar te spat.
Die Nederlandse kontingent is in die Afgaanse provinsie Uruzgan ontplooi. Die
afgelope aantal jare het Uruzgan in Nederland so ‘n huishoudelike naam soos
Friesland geword, en die pers vind dit baie selde nodig om by te voeg dat dié
plek in Afganistan is.
Juis noudat ‘n fase aanbreek waar konvensionele militêre stratege meen die
oorlog kan konvensioneel beëindig en die situasie bestendig word, sit verskeie
lande met verkiesingsbeloftes opgeskeep dat hul magte onttrek sal word. Hierdie
beloftes is ook mildelik in Nederland aan die kiesers gemaak, en nou breek die
oomblik van waarheid aan.
Die Nederlandse koalisie bestaan uit drie partye – die Christen-Demokratiese
Appèl wat die grootste is, die Partij van de Arbeid (PvdA), wat met die Britse
Arbeidersparty eerder as tradisionele Europese Sosialistepartye vergelyk kan
word, en die kleiner ChristenUnie. Die PvdA skop nou vas teen planne om die
onttrekking uit Uruzgan met ‘n jaar uit te stel – iets wat nodig is om die huidige
militêre suksesse teen die Taliban te bestendig, maar ook onontbeerlik vir die
heropbou van Afganistan.
Die PvdA se besluit is nie noodwendig gewild nie. Die militêre vakbond daag die
PvdA uit om aan naasbestaandes van gevalle soldate en aan soldate wat in
Afganistan gewond is te kom verduidelik dat dié opofferings vrugteloos was.
Die PvdA, onder die vaandel van die nakom van verkiesingsbeloftes, spreek sy
verbasing uit oor sy koalisievennote se verbasing dat hy by sy
verkiesingsbeloftes wil bly. Die koalisievennote is op hul beurt weer verbaas dat
die PvdA nie die realiteit in die praktyk kan beoordeel en daarop reageer nie.
Deur die Taliban nou te laat ontsnap, gaan eenvoudig beteken dat die Weste
binnekort weer die wrang vrugte gaan pluk.
Aan die ander kant, ‘n oorlog met diep ideologiese en religieuse wortels, word
ook selde op die slagveld beslis. Juis daarom, beoordeel die stryders, is die
heropbou van Afganistan nodig om die harte van die mense te wen. Hierdie
opsie is ook nie die produk van teoretici agter hul lessenaars duisende kilometer
van die toneel af nie, maar van bevelvoerders wat al jare lank aan die realiteite
op die Afgaanse voetsoolvlak blootgestel is.

Nuuskommentaar: Steeds volstruispolitiek oor misdaad


Dit is steeds onduidelik waar pres. Jacob Zuma sy handboek gekry het oor hoe
om ‘n land nié te regeer nie. Hy wend dit egter klaarblyklik steeds mildelik aan.
Terwyl nog ‘n uiters grusame plaasmoord in die Oos-Kaap, te midde van ‘n
dawerende swye in al elf amptelike tale deur die regering, aan die lig kom, word

7
‘n parlementslid gedwing om ‘n opmerking terug te trek dat die regering
wetteloosheid bevorder. Buite die parlement was meer as twintigduisend
protesbriewe van die publiek om beswaar oor misdaad te maak, maar die
regering weier om dit in ontvangs te neem.
Dié protesbriewe was die gevolg daarvan dat pres. Jacob Zuma in sy staatsrede
slegs enkele futlose sinne aan misdaad en die bekamping daarvan afgestaan
het.
Aan die vooraand van hierdie staatsrede het ver skeie aanvalle op gesinne in
veiligheidskomplekse plaasgevind, was daar lewensverlies en is die vrou van ‘n
gospelsanger verkrag. Minstens vyf boere of hul gesinslede is vanjaar reeds in
plaasaanvalle vermoor, die meeste uiters grusaam.
Onlangs het die Nederlandse koerant Trouw ‘n artikel geplaas waarin met
taamlike grusame detail oor Suid-Afrika se plaasmoorde berig word. Sedertdien
het minstens nog drie sulke moorde plaasgevind.
Om tot die gevolgtrekking te kom dat die regering wetteloosheid aanmoedig is
dus nie te moeilik nie, en ‘n eis om so ‘n opmerking wat onder parlementêre
privilegie gemaak is terug te trek sonder om opposisiebetoë hieroor aan te hoor,
laf.
Vrye mark ekonome is dit eens dat die staat se rol in die ekonomie beperk moet
wees tot die verskaffing van ‘n veilige omgewing waarbinne markkragte optimale
spierkrag kan toon. Al is almal nie ewe oortuig dat die staat se rol so beperk kan
word nie, beteken dit nie dat iemand die veilige omgewing as voorvereiste betwis
nie. Dat die regering juis nou, aan die vooraand van die nasionale begroting
volstruispolitiek oor misdaad aan die dag lê druis in teen landsbelang, net soos
die onwilligheid om nasionaliseringspraatjies behoorlik nek om te draai.
Te midde hiervan het die Minister van landelike Ontwikkeling en
Grondhervorming weer die opmerking gemaak dat die beginsel van vrywillige
verkoper, gewillige verkoper, nie bekostigbaar is nie, en daarom ‘n groot
bedreiging vir die land se veiligheid inhou. Die verwagtinge wat die regering op
hierdie wyse wil paai, is in ‘n land met marginale landboustoestande egter nog
gevaarliker, aangesien betreklike groot plase nodig is om ‘n inkomste
gelykstaande aan die regering se minimumlone te verseker. Tog hou die regering
vol met stellings dat hy landelike armoede wil teenwerk deur die grootskaalse
vestiging van kleinboere. Enige landbou-ekonoom sal uitwys dat hierdie beleid
armoede skep en voedselsekuriteit na die maan stuur – juis die grondslag vir
geweld.

Malema ANC se enigste juweel – Mbalula


Die ANC se omstrede jeugleier, julius Malema, is die ANC se enigste juweel
aangesien dit al is wat die ANC het, en die opposisie nie het nie, en daarom die
nydige jaloesie. So het die adjunk-minister van Polisie, Fakile Mbalula, in die
debat oor pres. Jacob Zuma se staatsrede gesê.
Mbalula het ook in die bresse getree vir die komende debat binne die ANC oor
die nasionalisering van myne, wat deur die ANC se jeugliga op die tafel geplaas
is. Volgens Mbalula is die nasionaliseringsbeginsel nie nuut vir die ANC nie.
SAPA

8
Zuma se vriendin kry groot tender onder verdagte omstandighede
Die IVP skree blou moord nadat dit aan die lig gekom het dat 'n tender vir die
voorsiening van verversings aan die KwaZulu-Natalse Wetgewer aan die ma van
twee van pres. Jacob Zuma se buite-egtelike kinders toegeken is. Sapa en News
24 berig die tenderbedrag beloop R1,3 miljoen, terwyl IOL die waarde op R3
miljoen stel. Volgens die IVP is die tender toegeken voor die hersieningsperiode
van 21 dae verloop het, en dat dit ook nie soos die wet vereis in die
staatskoerant geadverteer was nie. Die Wetgewer hou vol dat dit 'n openbare
tenders was en dat meer as 50 voorleggings ontvang is.

Nuuskommentaar: Kultuur as vyeblaar en beloftes wat skuld maak


Toe pres. Jacob Zuma die boonste politieke sport in Suid-Afrika as, soos hy dit
gestel het, “100 % Zulu boy” verower het, sou dit ‘n aantal domino’s aan die val
sit wat moeilik gestuit gaan word.
Die moderne demokrasie is gebou op die beginsel dat beloftes skuld maak. ‘n
Kandidaat wat oorboord gaan met verkiesingsbeloftes, sien kort na sy verkiesing
die skrif aan die muur. ‘n Goeie voorbeeld is pres. Barack Obama wat nou reeds
in die Amerikaanse pers ‘n “embattled president” genoem word, en wat besonder
vinnig op die gewildheidspeilings die kreeftegang gegaan het.
Hierteenoor is dit in die meeste van Suid-Afrikaanse inheemse kulture goeie
maniere om aan die vraesteller die antwoord te verskaf wat gemeen word die
vraesteller wil hoor. Hierdie gebruik het al pandemonium in die reklamewêreld
veroorsaak soos dat die teikengroep aandui hulle verkies Engels, terwyl ter
plaatse ondersoeke aandui die kykers volg hoofsaaklik programme in hul
moedertaal.
Solank almal verstaan dat die beloftes binne ‘n sekere kulturele raamwerk
gemaak is, kan die een wat die beloftes maak ver kom. Te midde van paaie wat
weggeteer raak, hospitale sonder medisyne, skole sonder bevredigende uitslae,
kan ‘n regerende party of die hoof daarvan in peilings steeds baie goed doen en
selfs sy gewildheid verhoog.
Op die duur skep hierdie los en vas maak van beloftes – voor en na verkiesings
– tog verwagtings dat minstens sommiges daarvan nagekom sou word. Iewers
gaan dit gewoon net nie af om nie werk te hê nie, maar ministers gaan voort om
luukse vuurwaens aan te skaf.
Die gaping tussen onrealistiese verwagtinge en die werklikheid op die model van
relatiewe deprivasie het reeds onder oud-President Thabo Mbeki die
regeringshoof se kop lat rol. Pres. Jacob Zuma het sy termyn gepak op dieselfde
noot as die populisme waarmee hy sy opmars suksesvol gevoer het.
Toe dié tegniek se stoom opraak, is probeer om op die populariteit van oud-
president Nelson Mandela se rug nog stoom op te bou. Binne dae was dié stoom
egter ook op.
Terselfdertyd is dit ook tradisioneel goeie hoofmanskap om in ‘n kraal van familie
tot familie se vuurtjie te loop en by daardie vuurtjie te gaan verkondig wat daardie
familie wil hoor. Ook hierdie praktyk boemerang omdat die media saamloop, en

9
berig wat nie vir die ore van ander bedoel is nie. Vrae word oor teenstrydige
beloftes gevra.
Vanoggend lui voorblad-koerantopskrifte: Hou op beloftes maak.
Dit vereis kennelik veel meer vernuf en kundigheid om ‘n land – van die sentrale
regering tot die plaaslike regering - te regeer en bestuur as wat geglo is. Al die
beplanningskommissies in die wêreld gaan niks vermag as daar nie plan gemaak
word om die planne op grondvlak te laat realiseer nie. Dit beteken ‘n behoefte
aan fondse sonder om die gans wat die goue eiers lê te slag, en ongelooflik baie
kundigheid.
Pres. Zuma se repliek op die opposisiepartye se kritiek, asook die verskillende
manifestasies van gemeenskapspolitiek soos die briewe teen misdaad, sal toon
of ‘n les geleer en ter harte geneem is. Kulturele gebruike dien nie altyd as
geskikte vyeblaar nie.

Meting van owerheidsdoeltreffendheid


“Nog te dikwels straal die owerheid ‘n negatiewe beeld uit as werkgewer en as
diensteverskaffer. Dit blyk uit ‘n klompie algemene vooroordele oor
owerheidsadministrasies wat bestaan. Dit sluit in ondoeltreffendheid en die
voorskrifte is so oorheersend dat verandering teengewerk word.”
Hierdie aanhaling kom nie die pen van ‘n opposisiepolitikus na pres. Jacob Zuma
se staatsrede nie. Dit kom uit die nuusbrief van Vlaandere se sterkste regerende
koalisievennoot, die Christen-Demokrate en Vlaandere.
Die artikel handel in wese oor ‘n ondersoek wat gedoen is om meetbare
maatstawwe te vind oor waar die regering goed, of minder goed gedoen word.
Die artikel kan gelees word by: http://www.cdenv.be/actua/nieuws/goed-beheer-
bij-de-overheid-meten-is-weten
‘n Mens kan maar net sidder hoe Suid-Afrika se owerheidsektor sou vaar as dit
aan die Vlaamse maatstawwe en Vlaamse ondersoekers onderwerp moes word.

Nuuskommentaar: Pres. Jacob Zuma se staatsrede


‘n Staatsrede met ewe veel weglatings as belangrike sake wat gemeld is, met ‘n
groot vraagteken oor of daar dié keer iets op grondvlak van goeie voornemens
gaan gebeur.
Terwyl baie gemaak is van die skep van werksgeleenthede en die ekonomie, het
misdaad weinig meer as ‘n terloopse vermelding gekry. In die lig van sy later
verbintenis tot rekonsiliasie was sy swye oor die omvang ban plaasmoorde
hinderlik.
Korrupsie is wel bietjie meer onder die loep geneem, maar daar was geen sterk
standpuntinname dat korruptes in die pad gesteek gaan word nie. Trouens, die
hele morailiteitskwessie het uitstaande gebly. Hiersonder is die teen-
Vigsprogram se tande by voorbaat getrek.
Aan die positiewe kant, is dit bemoedigend dat die skep van intensiewe groen
werkgesleenthede is die oog is. In aansluiting hierby die standpunt dat privaat
kragvoorsieners ook ‘n groter bydrae sal lewer, en ‘n mens kan maar net hoop
dat dit hoofsaaklik na groen krag verwys.

10
Plek-plek wil ‘n mens bekommerd raak dat van sy adviseurs eerder ideologies as
met kennis dink. Met grondhervorming is die gedagte weer eens geopper van die
vestiging en ontwikkeling van klein boere om hierdie sektor uit te brei en
lewensvatbaar tye maak. Terwyl die president in bykans dieselfde asem na Suid-
Afrika as waterarm land verwys, sou ‘n mens begrip verwag dat min dele van die
land hom leen tot lewensvatbare kleinboerdery, veral ‘n boerdery wat ‘n betreklik
seker inkomste van bokant die broodlyn sal lewer.
Uiteindelik – baie voornemens vir regruk, maar so was daar ook voornemens en
selfs ‘n nege man ministeriële taakspan om Balfour se probleme aan te spreek.
Skynbaar was dit ‘n geval van waar een blinde ‘n ander lei, val beide in die sloot.
By Balfour het die hoë vlak span skynbaar dadels vermag en het die dorp maar
weer gebrand.
Die land kan maar net hoop dat die staatsrede meer konkrete suksesse as ‘n
sterk ministeriële taakspan sal oplewer.

Nuuskommentaar: Ballon wat geprik is


Werklikhede is dikwels baie anders as die Utopia wat politici voorhou, en
kandidate wat tydens ‘n verkiesingsveldtog op ‘n golf van gewildheid kon ry, is
dikwels kort na hulle tot die tuig verkies is baie ongewild.
Die jongste voorbeeld is pres. Barack Obama wat ‘n jaar na sy verkiesing reeds
in meningsopnames druip. Tot die Tea party, ‘n konserwatiewe beweging wat
onlangs tot stand gekom het, vaar in peilings beter as pres. Obama se
Demokratiese Party.
Iemand wat egter loshande die gewildheidstoets oorleef het, is oud-pres. Nelson
Mandela. Hy word steeds wyd – internasionaal en plaaslik – as ikoon voorgehou.
Vandag, twintig jaar na sy vrylating, is koerante vol artikels waarin menings
gehuldig word oor hoekom hy die status van grootsheid kon verwerf.
In werklikheid was hy ook ‘n regeringshoof met voete van klei. Onder sy grootste
flaters was ‘n hele rits baie swak ministers waarvan die sleurkrag in
departemente soos Binnelandse Sake, Onderwys, Verdediging en verskeie
ander gesien kan word. Swak aanstellings sedertdien het verseker dat sake in
die reël nie verbeter het nie, en dikwels nog verder die kreeftegang gegaan het.
Om sake te vererger het Mandela ook klagtes wat moedelose mense en
instansies oor hierdie swak ministers aan sy adres gerig het, as prosedure na
daardie ministers verwys. Dit behoef geen Einstein om te besef hierdie
prosedure het niks beredder nie.
Die euforie oor Mandela by ‘n groot deel van die publiek het tot gevolg gehad dat
‘n groeiende bewuswording dat die land ‘n grondwet vol leemtes het, eers in die
Mbeki-era posgevat het. Die polarisasie wat later besonder opvallend sou word
het ook eers in die Mbeki-era behoorlik ingesink. Anders as met Mandela het
Mbeki roemloos ondergegaan en is byna dadelik vergeet.
Die Zuma-era het egter baie gou die grondwetlike leemtes ontbloot.
Rubriekskrywers, kommentators, briefskrywers in koerante en vele meer probeer
as’t ware mekaar oorbie in hul ywer om die langste lys gebreke op skrif gestel en
gepubliseer te kry. Die kommentators uit die pro-Mandela-dampkring bly

11
hoegenaamd nie agter by skeptici wat die huidige grondwetlike bedeling vanuit
die staanspoor geopponeer het nie.
‘n Opvallende les is dat ‘n grondwet wat onder slegs een regeringshoof skynbaar
slaag, geen geslaagde grondwet is nie. ‘n Grondwet moet die toets van
geslaagdheid meer holisties kan deurstaan.
Tog het van die kommentators wat so die probleme lys steeds volgehou dat die
grondwet goed is en op ‘n manier gebruik moet word om die probleme wat hulle
lys aan te spreek. Oor die meganika hiervan was daar heelwat minder
duidelikheid as oor die lys van probleme, en stellings is gemaak soos “deur
harde werk”.
Pas het dit aan die lig gekom dat ‘n peiling in November aan Zuma ‘n gewildheid
van 77 % gee, teenoor 70 % wat meen die regering vaar goed. Intussen is
heelwat water die see in en het verskeie dorpe gebrand of brand steeds.
Dit lyk nogtans of diegene wat die land se probleme so lys, baie lank gaan wag
dat die demokrasie onder die huidige grondwet die probleme gaan oplos.
Nou wag die land op die president se staatsrede.

Nuuskommentaar: Waar is dit veilig?


‘n Aantal jare gelede het ‘n Suid-Afrikaanse minister die opmerking gemaak dat
huisbrake in Australië meer algemeen voorkom as in Suid-Afrika.
Niemand het hom ernstig opgeneem nie.
Die minister se statistieke is waarskynlik gebaseer op dié van Nation Master, wat
Australië inderdaad bo-aan die lys plaas met Suid-Afrika in die 10de plek. Hierdie
tabel druk egter huisbrake per 1 000 van die bevolking uit, waar die SAPD se
syfers dit in huisbraak per 100 000 van die bevolking uitdruk. Word die SAPD se
eie syfers gebruik en omgewerk na dieselfde norm as dié Nation Master, klop dit
hoegenaamd nie en is dit duidelik dat die twee instellings nie dieselfde syfers as
grondslag gebruik nie.
Selfs al sou dit statisties die waarheid wees, is dit in Suid-Afrika so dat die totale
lengte van duiwelsvurkomheining waarskynlik langer as die Chinese se Groot
Muur is. Dit is afgesien daarvan dat versekeraars diefwering vereis wat aan
tronktralies herinner, alarms en dikwels gewapende reaksie. Voeg hierby die
groot, kwaai honde en ‘n gemiddelde voorstedelike huis in Suid-Afrika herinner
goed aan Fort Knox.
Ten spyte hiervan beleef Suid-Afrika jaarliks ongeveer ‘n kwart miljoen
gerapporteerde huisbrake. Omdat dit so moeilik gemaak word om in te breek
word eenvoudig gekyk waar die swak skakel is, en dit is wanneer die mense tuis
is, met die gevolglike skerp toename in huisrooftogte. Dit beloop nou reeds sowat
20 000 gerapporteerde gevalle per jaar, dubbel soveel as 5 jaar gelede.
Voeg hierby die moorde en verkragtings tuis wat in ander kategorieë opgeneem
word, en dit is skrikwekkend, om die minste te sê.
Die afgelope week het verskeie voorvalle van moord- en roof in
veiligheidskomplekse voorgekom, met die jongste die verkragting van die vrou
van ‘n gospelsanger terwyl die sanger vasgebind was.
Intussen duur plaasaanvalle ongestoord voort, waar die landbouers ook
intensiewe voorsorg tref, waaronder intelligensiestelsels en eie reaksiemagte.

12
Plaasmoorde in Suid-Afrika is statisties die hoogste voorkoms van moord onder
enige identifiseerbare groep ter wêreld – selfs hoër as bruin mans in die Wes-
Kaap wat tradisioneel as die hoogste ter wêreld gereken is en met
bendebedrywighede verband hou.
Die regering se reaksie is om die burgery te ontwapen. Uiteindelik wil die polisie
sien dat net die polisie wapens het – ‘n skrikwekkende gedagte as in gedagte
gehou word hoeveel wapens die polisie jaarliks verloor. Skrikwekkend as die
omvang van wapensmokkel oor die land se grense in gedagte gehou word. In die
proses is dit nie die wetsgehoorsames wat bewapen word nie, maar die
misdadigers.
Die regering swyg dawerend oor plaasmoorde.
Navorsers het ‘n patroon ontdek in hoe ‘n mate lande, of in die geval van die
VSA deelstate, skielik strenger oor vuurwapens in privaat besit word namate
groot Fifa-byeenkomste daar aangebied gaan word.

Zuma se posisie
Met 'n kultuur in transito ontwikkel daar dikwels anti-kultuurelemente, en dit leen
hulle tot misbruik. Die werklike Zoeloe-kultuur is baie gesteld op kuisheid, met
selfs uiters omstrede praktyke om hieroor waghond te speel. Zuma is ook oor sy
laste sekskapade deur die tradisionaliste die kop gewas.
Selfs al sou privaatheid vir 'n openbare figuur 'n reg wees, is dit 'n mite. Onlangs
is die Engelse sokkerkaptein, John Terry, van sy kapteinskap gestroop weens
berigte oor 'n buite-egtelike verhouding.
Zuma gebruik egter nie net tradisie as verskoning nie. Wanneer dit hom pas,
beroep hy hom ook daarop dat hy 'n Christen is, en is selfs 'n ere-pastoor. In
hierdie kultuurpotjie werk alles nie altyd goed uit nie. Waar die tradisionaliste
gewoonlik die godsdiens as baie inklusief ervaar, en animistiese gebruike soos
voorvader-offerandes en poligamie insluit, is die Christendom in wese 'n taamlik
eksklusiewe godsdiens. Dan bots die rituele slagting met die opvatting dat Jesus
die finale offer gebring het. Dan bots poligamie met die Nuwe Testamentiese
opdrag dat 'n goeie ouderling getrou aan een vrou moet wees.
Trouens, die Christen-eksklusiwiteit (Ek is die enigste Here) skep soms spanning
met sekere opvattings oor godsdiensvryheid. Enkele jare gelede (wat ongeveer
saamgeval het met die Tien Gebooie-beeld in 'n regter se kantoor) het 'n
Amerikaanse kapelaan teenspoed gekry omdat hy sekere "verbode dele" van die
Bybel gebruik het, omdat dit aanstoot aan ander godsdienste se aanhangers sou
gee, oa juis die gedagte van enigste Here.
Maar selfs al begryp Zuma en sy beeldpoetsers nie wat verkeerd gegaan het en
hoekom nie, is die gevolge baie duidelik. Die baie klein Christen-Demokratiese
Party het in 'n verklaring tong in die kies gemeld dat dit lyk asof Zuma 'n Tiger
Woods, Bill Clinton en Henry die 8ste in een is. Binne 'n ommesientjie het dit 'n
rits buitelandse koerante, waaronder die New York Times gehaal. Ook ander
tong in die kies opmerkings het die buitelandse pers – van Spaans tot Sweeds,
gehaal, klaarblyklik met die doel om Zuma as karikatuur voor te stel.
Die blootstelling wat Suid-Afrika in die buiteland kry in die aanloop tot die
wêreldbeker-sokkertoernooi laat dit lyk of Suid-Afrika se politici eerder met 'n

13
boemerang as sokkerbal aandag trek. Onlangs het Trouw van Nederland 'n
artikel oor plaasmoorde geplaas, met die leserskommentaar daarby wat min
goeds vir die land se beeld inhou. Sedertdien was daar nog minstens een
plaasmoord. Daar was ook 'n moord-en-roofaanval in 'n veiligheidskompleks.
En daar was 'n R40 miljoen se suiporgie in Bloemfontein deur die mense wat
ander se veiligheid moet verseker.
Tot Zuma se krediet. Hy vra darem om verskoning, anders as van sy ministers
wat vasskop in hul halsstarrigheid – soos juis oor die suiporgie.
Daar is sekere terreine waar aanjaag en verskoning vra liefs nie 'n patroon moet
word nie. Een hiervan is dit wat met Vigs verband hou. Pas is berig dat die
Nederlanders se gemiddelde lewensverwagting nou tot ongeveer 80 jaar gestyg
het, of dit blyk Suid-Afrika s'n het tot ongeveer 46 gedaal met die onderpunt wat
nog bereik moet word. So 'n land het nie 'n president nodig wat 'n voorbeeld stel
van hoe om NIE met die Vigsprobleem om te gaan nie.
Herman Toerien

Nuuskommentaar: Na die pot die ketel verwyt het...


Terwyl Suid-Afrikaners mekaar nog oor gebalde vuiste aangluur en die woorde-
oorlog voortduur oor die 2 Februarie-herdenking, kristalliseer die vraag opnuut:
“Ja, maar wat nou?”
Ongelukkig is idees oor wat nou baie uiteenlopend, nie net onder die land as
geheel se inwoners nie, maar ook binne groepgeledere.
Op die meer omvattende skaal verwag die ANC-Jeugliga die land van melk en
heuning lê voor die deur as die myne genasionaliseer word. Die ANC-ringkoppe
wil nou – hopeloos te laat – probeer keer dat dit elke keer dieselfde handvol is
wat voordeel uit Swart Ekonomiese Bemagtiging trek.
Sedert 2 Februarie 20 jaar gelede is verskeie kere gemeen nog ‘n Rubicon word
oorgesteek, net om te vind die land is in werklikheid weer in die Trasimeense
Meer ingelei. In die jongste vlaag beriggewing word verwys na die land se
waterkrisis, die weermag se topbestuur wat weens hul kleitrappery uit Skoor
gejaag is, pres. Zuma wat nou blykbaar ingevolge die Zoeloe-kultuur met vyf
beeste beboet gaan word oor sy buite-egtelike sekskapades...
Cosatu dreig met die ontwrigting van die Wêreldbeker-sokkertoernooi oor
Chinese invoere, en die stelsel van uitvoerende burgenarre se doodsklok het
skynbaar gelui, maar eers nadat dié soort narrestreke ook in nog hoër gestoeltes
nesgeskop het.
Terwyl daar verdeeldheid is oor of 2 Februarie 20 jaar gelede goed of sleg was –
volgens Tim du Plessis is dit net ver-regses en die ANC-Jeugliga wat meen dit
was sleg – is almal dit eens dat die koers wat sedertdien ingeslaan is, iewers
gestuit moet word.
Oor die pad vorentoe is daar egter min duidelikheid. Daar is sekere instinkte
soos dat die howe ingespan moet word om die rysmier van Afrikaans – in
weerwil van grondwetlike waarborge – gestuit te kry.
Uiteindelik word verskillende ideologieë teenoor mekaar opgestel.
Binne ‘n piesangrepubliek-opset geld die gewone ideologiese wetmatighede nie.
Dit kan nie, want die energie wat nodig is om volslae ineenstorting te voorkom of

14
gewoon liggaam en siel aanmekaar te hou, is so groot dat daar min ruimte gelaat
word vir akademiese gesprekvoering. Dit help ook nie dat die regering nou
skynbaar tot die punt gevorder het waar die gemeenskap wat met vaardighede
baie oplossings kan bied, tot buite die relevante politieke speelveld gerangeer is
nie. Selfs Max du Preez wys hierop.
Om kundiges wat eerlik na oplossings soek as ideologies ver regs van die wa af
te brandmerk bloot omdat objektiwiteit nie meer ruimte laat om oplossings slegs,
of hoofsaaklik, in die liberale raamwerk te soek nie, dra nie by tot die soeke na ‘n
werkbare koers nie.

Ongevalle weens boemerangspeel


Onder die reaksies op die nuus dat pres. Jacob Zuma nog ‘n buite-egtelike kind
tot die land se bevolking bygedra het, was dié van ‘n klein politieke party wat
gesê het dit lyk of die president nou ‘n Bill Clinton, ‘n Tiger Woods en ‘n Koning
Henry VIII in een is.
Gaan tik Zuma, Tiger, Clinton en Henry in Google in. Dit is bykans 60 000
trefslae.
Tik die klein party se leier se naam by, en dit daal tot sowat 1 300.
Maar gaan kyk ‘n bietjie waar het dit alles trefslae opgelewer.
Nee, nie in Suid-Afrika se Afrikaanse koerante nie.
Dit is ‘n rits koerante oorsee, koerante van formaat soos die NY York Times. Van
die kleiner koerante gebruik nou die grotes se berigte hieroor as “aanhaling van
die week.”
In kort, die buitelandse pers vind die klein party se opsomming van die situasie
so komies dat dit soos ‘n veldbrand versprei het.
En toe tref dit Twitter.
Nog ‘n opmerking, van ‘n effense groter party, dat pres. Zuma behandeling vir sy
seksverslawing moet kry, het ook heelwat opskrifte gehaal.
Dis ongelukkig nie die eerste afwysende opmerking oor pres. Zuma se
sekskapades wat groot trefslae in die buitelandse media oplewer nie. Die kleiner
party se opmerking dat Zuma se poligamie en animistiese gebruike ‘n terugkeer
tot die Donker Eeue uitstraal, het ook gaan opslae maak.
Trouens, so gewild is dit dat die Sweedse Dagen Post dit weer gaan afstof het na
Zuma se TV-onderhoud in Davos. Die president se skandes word onthou.
En hierdie is net die trefslae oor mediadekking wat deur van die land se twee
kleinste partye gegenereer is. Oor die algemeen is dit ook net die trefslae in
Engelstalige pers – met ‘n bietjie speel met terme word ook die Spaanse, Duitse
en ander media se draakstekery met ons president opgespoor en slinger dit die
gesamentlike trefslae die miljoene in.
Die interessantheid is dat dit selde veroordelend is, dis ‘n doodgewone
gekskeerdery met die president, skynbaar omdat hy net nie as die moeite werd
geag word om ernstig genoeg vir ‘n veroordeling opgeneem te word nie.
In kort: Sy beeld vir ernstig opneem herinner aan hoe die wêreld na Idi Amin
gekyk het, gelukkig darem sonder die gepaardgaande afsku in sy wreedhede.
Die grens is egter nouer as wat ‘n mens sou dink. Die omvang van plaasmoorde
het ook al die buitelandse pers “getref” en so was dit onlangs in grusame detail in

15
Trouw, met die uitwysing dat die regering hieroor taamlik swygsaam is. Wat
Trouw se berig interessanter maak – dit lewer ruimte vir leserskommentaar. En
dié was blatant krities teenoor die regering se onwilligheid om die wreedheid hok
te slaan.
Dit alles terwyl die oë van die wêreld, soos die regering gehoop het, so kort voor
die Wêreldbekertoernooi op Suid-Afrika gerig is. Soos te wagte is, is bykans
enigiets wat in Suid-Afrika gebeur, nou in veral die lande wie se spanne hier kom
speel, nuuswaardig.
Wat ook uit die beriggewing duidelik is, is dat Suid-Afrika tot dusver nie ‘n ronde
sokkerbal vir die toernooi inspan nie, maar ‘n boemerang.
En die regering speel lustig saam om te sorg dat die boemerang soos klokslag
terugkom en nog iets neervel. Die vel van ‘n beer wat nog nie geskiet is nie.
Die slegte nuus is dat hef aan nog voorlê.
Die werklike in diepte artikels wat geskryf word waar omvattend na die land
gekyk gaan word, moet nog kom. Die sokkerkoors wat die land hier beet het, het
nog nie werklik na die wêreld daar buite versprei nie, soos ook blyk uit die
kaartjieverkope.
En waaroor gaan berig word? Die land se natuurskoon, die strande, die
wildsparke...
Ja, daaroor wel, maar dit sal ook gaan oor die rommel in die natuurskoon en op
die wit strande, dit sal ook gaan oor wildstropery in die wildsparke.
Dit sal ook gaan oor ‘n minister wat alle departementele verslae se aanbevelings
in die wind slaan en ‘n steenkoolmyn digby Mapungubwe-wêrelderfenisgebied
goedkeur. Die slegte publisiteit wat Suid-Afrika oor sy hantering van die ander
wêrelderfenisgebiede, die Vredefortkoepel en Robbeneiland kry, sal verseker dat
dié flater nie die wêreld se bewaringsbewustes se oë sal ontglip nie.
Suid-Afrika se geweldsmisdaadsyfers gaan weer en weer in die nuus kom. Dat
die polisie ‘n dronknes-saamtrek teen ‘n koste van miljoene rande gaan hou het,
sal ook nie help om die boemerang elders heen te laat koers kry nie.
Die vlakke van polarisasie en die feit dat die land onder die ANC tot, volgens
verskeie kenners, die hoogste vlak van welvaartsgaping in die wêreld gegroei
het, gaan ook die buitelandse nuus haal.
Die laaste ding wat die land nou nodig het is ‘n president wat wys hy kan ‘n Tiger,
Bill en Koning Henry VIII in een wees. Dit sal seker gepas wees as hierdie
presidensie se laaste taptoe met fufuzelas gespeel word.

Nuuskommentaar: Aan jou vriende sal jy geken word ...


‘n Patetiese brief van ‘n Suid-Afrikaanse mediese student uit Kuba lig nog ‘n
aspek uit van hoe Suid-Afrika na sy burgers in die buiteland se belange omsien.
Dit is al ou nuus dat die Suid-Afrikaanse regering voor die hof gesleep moes
word om na die belange van sy burgers in Zimbabwe om te sien, en steeds erg
skoorvoetend sy verpligtinge ingevolge internasionale ooreenkomste waarvan
die land deelgenoot is, en volgens die grondwet ingebind word, nakom.
Die probleem is dat Suid-Afrika se vriendskap met diktatoriale lande swaarder
weeg as die belange van die Suid-Afrikaanse burgers.

16
Hierdie student wys op die kos en haglike verblyf terwyl hulle medies in Kuba
studeer. Met die geringste reënbui is hulle onder water soos die dak lek.
Hy vra dat sy naam weerhou moet word, want word die studie opgeskort is hy en
sy mede-studente hul geleentheid kwyt omdat hul ouers behoeftig is.
‘n Deel van die probleem, verduidelik hy, is dat die Suid-Afrikaanse regering
versuim om hul verblyf- en studiegeld aan die Kubaanse regering oor te dra. ‘n
Lid van die Suid-Afrikaanse missie was ook in 2005 laas by hul verblyf.
Hy skryf verder dat hy al sy skrywe tevore aan die Sowetan gerig het, maar niks
daarvan gekom het nie. Nou het hy dit maar aan ‘n Christenparty gerig met die
hoop dat iemand iets aan die saak sal doen.
‘n Besoek aan verslaggewers sonder Grense se webwerf dui gou aan dat dit
onwaarskynlik is dat sy e-pos aan die Sowetan Kubaanse grondgebied sou
verlaat. Kuba, selfs na Raul Castro by sy diktatoriale broer Fidel oorgeneem het,
is nog berug oor hoe internetverkeer aan bande gelê word.
Dit wil voorkom asof ‘n ou ekonomiese waarheid nou die Suid-Afrikaanse
regering aan die hakskeen begin hap. Staatsekonomie handel oor hoe beperkte
bronne ten beste aangewend moet word om aan die veelvuldige behoeftes te
voldoen.
Dit, in gewone taal, beteken dat as groot bedrae geld aan luukses soos
ingevoerde vuurwaens spandeer word, ontstaan ‘n tekort iewers, veral omdat
daardie geld uit sirkulasie in die Suid-Afrikaanse ekonomie geneem word en nie
dien om die ekonomie te stimuleer nie. Dit beteken ‘n hele klomp huise minder, ‘n
hele klomp skoolboeke minder, en ‘n hele klomp geld minder om paaie in stand
te hou.
Dit dui waarskynlik ook daarop dat die Suid-Afrikaanse Gesondheidsdepartement
nie die gelde hef vir mediese dienste aan burgers van buurlande gelewer nie,
soos die internasionale ooreenkomste bepaal. Trouens, verlede jaar was die
totale tekort op die Suid-Afrikaanse gesondheidsbegrotings – die van provinsiale
gesondheidsdepartemente ingereken – gelykstaande aan die bedrae deur
buurlande verskuldig, en onbetaalde hospitaalrekenings sedert 1997.

Plaasmoorde in Nederlandse pers kort voor Wêreldbeker


“Zuid-Afrika Jonge zwarte mannen martelen en vermoorden ongeveer honderd
blanke boeren per jaar. In Zuid-Afrika worden gemiddeld twee boeren per week
vermoord. Boerenorganisatie Agri SA luidt de noodklok.”
So begin ‘n berig in vandag se uitgawe van Trouw.
Die berig handel in wese oor die hofverskyning van die vermeende moordenaars
van die Van Zyl-egpaar van Senekal, wat eers met “een vleeshaak” aangeval is
voor hulle vermoor is.
Hierdie berig is die jongste in ‘n skynbare oplewing in die belangstelling oor die
lot van kommersiële boere in Suid-Afrika. Die leier van minstens een klein
politieke party het al aangedui dat hy kort na mekaar twee media-oproepe oor
plaasmoorde uit Europa gekry het – een uit Nederland en een uit Spanje.
Die berig vermeld voorts dat Suid-Afrika deur sowat 750 tot 800 plaasaanvalle
per jaar geteister word, wat ongeveer ‘n honderd sterftes per jaar oplewer.

17
Die berig lig ook die “patetiese” speurwerk in die land uit, en dat maar sowat 12
persent van die sake wat by die polisie aangemeld word, in ‘n veroordeling
uitloop.
Volgens die berig meld Agri SA dat die plattelandse veiligheidsplan nie werk nie
omdat te veel poilisiebeamptes nie hul werk doen nie, en dat te veel “rotten
appels” in die polisie nie ontslaan word nie.
Trouw haal selfs een van Van Zyl se werkers aan oor wat hy tydens die begrafnis
gesê het: We hebben lang samengewerkt. Hij was een goede man. Als ik een
schaap kwijt was, hielp hij mij zoeken.”

Nuuskommentaar: Leierskap en morele kompas


“Die land het sy morele kompas verloor.” So meen Volksblad vanoggend in sy
hoofartikel, met ‘n groot voorbladberig dat Helen Zille die president oor sy jongste
buite-egtelike kind looi.
Op Sondagaand se Interface-program op TV het die leier van die Christen-
Demokratiese Party en ‘n selfverklaarde agnostikus oor die kwessie van
poligamie teenoor mekaar te staan gekom. Gereduseer tot die been was dit
standpuntstelling van Christen-Demokrasie teenoor liberalisme.
Die hoofverskil tussen die twee standpunte was dat ‘n land se vryhede binne die
raamwerk van ‘n morele kompas moet gemeet moet word, of dat die grondwet
aan elkeen die reg waarborg om na sy goeddunke te handel, onderhewig aan ‘n
vaag-gedefinieerde “bottom line.” Die voorbeeld wat as onaanvaarbaar gebruik
word, is dat een nie ‘n ander oor die kop kan slaan net omdat hy nie hou van wat
hy sê nie.
Met die opruiming van New York as vuil, misdaadstad, is binne ‘n liberale
grondwet egter ‘n beleid van zero toleransie gevolg. Die redenasie was dat
hierdie “bottom line” algaande neig om al hoe hoër te word. In wese kom dit
daarop neer dat iemand wat nie vasgevat word oor hy ‘n leë sigaretpakkie by ‘n
motorvenster uitgooi, of ‘n stopstraat ignoreer nie, later moeite het om te
verstaan hoekom diefstal verkeerd is, en dat ‘n volgende nie sal verstaan
hoekom dit so verkeerd is om bedrog te pleeg nie. Die uiteinde is wetteloosheid.
In lande met liberale grondwette word egter steeds van leiers verwag om die
voorbeeld te stel. Toe ‘n Belgiese regter haar aan iets naastenby skuldig maak
van dit waarvan regter Hlope beskuldig is, is sy nie net geskors nie, maar die
premier het verklaar dat die demokrasie self deur haar optrede bedreig is.
‘n Deense minister wie se klererekeing agterstallig geraak het is gevra om haar
pos te ontruim.
Hier word iemand, oor wie ‘n regter uitspraak gelewer het dat hy in ‘n korrupte
verhouding met ‘n veroordeelde bedrieër was, die president. Sy verweer teen ‘n
aanklag dat hy ‘n MIV-positiewe vrou verkrag het, was dat dit vrywillige owerspel
was.
‘n Minister se munisipale rekening was twee jaar agterstallig, maar erger nog, dié
minister is vir munisipale aangeleenthede verantwoordelik.
Die Minister van Staatsveiligheid se eggenote word op dwelmsmokkel-aanklagte
gearresteer.

18
‘n Minister wat die stryd teen korrupsie moet koördineer het erken dat hy self sy
amptelike kredietkaart misbruik het.
Die ondervoorsitter van die ANC en voormalige adjunk-president van die land
beduie hoog en laag hoe die ANC korrupsie gaan vasvat, maar versuim om te
vermeld oor hoe sy haar eerste rybewys in Mpumalanga bekom het.
Pas is berig dat die president pa van ‘n twintigste kind geword het. Die ma van
die kind is nie een van sy bestaande of gewese vroue nie, en word ook nie as
een van sy toekomstige vroue gelys nie.
Terwyl Europa, wat hoegenaamd nie ‘n toonbeeld van ‘n konserwatiewe
lewenswyse is nie, se gemiddelde lewensverwagting nou na ongeveer 80 jaar
gestyg het, het dié in Suid-Afrika tot net meer as die helfte daarvan gedaal en die
onderpunt is nog, aldus die kenners, lank nie bereik nie. Die gevolg is duisende
Vigswesies.
As iemand se morele kompas om ideologiese redes koersloos is, moet harde
feite immers praat. Maar die oplossing word ook in die liberale dampkring gesoek
– die gratis uitdeel van kondome. Hierdie veldtog is vroeg in sy spore gestuit, juis
toe dit geblyk het dat dié program buite-huwelikse seks aanmoedig, en
Vigsverspreiding versnel. Nie lank egter nie, is die gesonde verstand deur
liberale denke opsy geskuif, en het die kondoomverspreiding weer sy volle
verloop geneem.
Terselfdertyd het die owerheid se morele herbewapeningsaksie, ironies gelei
deur mnr. Jacob Zuma – toe adjunk-president, in die sand uitgeloop.
Daar is ‘n rede hoekom Christen-demokratiese partye nou in soveel belangrike
Europese lande aan bewind is ongeveer 20 – 30 jaar na liberalisme in dié
wêrelddeel sy hoogtepunt bereik het. Trouens, ‘n opname verlede jaar het
getoon dat jong Nederlanders meer Calvinisties as hul ouers is.
Die uitslag van gisteraand se Interface-stemming, was terloops dat vyf persent
van die respondente gemeen het poligamie is reg, en 95 % wat gemeen het dit is
verkeerd.

Nuuskommentaar: Slaggatgereed vir sokker


Die laaste ding wat Suid-Afrika en die wêreld nodig gehad het so kort voor die
aanvang van die sokker-wêreldbekerkampioenskap is dat die publiek se vertroue
in die polisie ‘n verdere knou moes kry.
Terwyl sowat 50 000 polisiemanne en vroue teen groot koste vir ‘n makietie na
Bloemfontein gebring is, is twee huise in Shoshanguwe afgebrand, en kon die
polisie darem keer dat ‘n derde ook afgebrand word. Hierdie huise behoort aan
die verdagtes in ‘n moordsaak, maar die mense wat voor die vlamme moes vlug
en nou niks oor het nie was nie verdagtes nie.
In Welkom is ‘n skoolseun met ‘n mes gesteek, en in KZN is ‘n IVP-politikus met
geweervuur aangeval maar nie beseer nie.
Bloemfontein lyk nou na ‘n varkhok na die makiektiegangers die drankwinkels
leeggekoop, en inwoners met ‘n vreeslike geraas geteister het. Die polisiehoof se
reaksie was dat die mense met die geel petjies wat die drankwinkels so
leeggekoop het lede van die publiek was wat dié saamtrekpette in die hande
gekry het. Dit is ongeveer dieselfde logika as dat veldbrande wat op ‘n streep in

19
die nag ontstaan deur die sonlig veroorsaak word wat op gebreekte glas skyn, of
deur die weerlig wat uit die wolklose blou lug slaan.
Terselfdertyd het die weermag getoon hoe slaggereed dié instelling is om
veiligheid tydens die toernooi te waarborg deur konvensionele wapens soos die
omstrede Grippens in te span.
Die gewone Suid-Afrikaner en voornemende buitelandse besoeker se
bekommernis is egter hoe veilig hy of sy teen mesaanvallers, verkragters en
rowers gaan wees, en dronk polisielede wat rommelstrooi en rusverstoring pleeg
– drie misdade in een – is nie juis wat vertroue inboesem nie.
Die Konfederasiebekertoernooi wat as suksesvolle oefenlopie voorgehou word,
het nie vir almal ewe goed afgeloop nie. Soos die huisvrou wat tydens die
toernooi, onder die oë van ‘n veiligheidswag van haar hangertjie in haar bloes
beroof is. Die veiligheidswag het verkies om niks te sien nie, en ook nie die gille
van die slagofffer en haar vriendin te hoor nie.
Net om enkele dae later ‘n histeriese oproep van die betrokke polisiestasie se
bevelvoerder te kry waarin sy uitgetrap word omdat sy “petty crime” by die SAPD
aangemeld het, want dit laat die misdaadstatistieke sleg lyk. En, sê hy, ‘n mens
rapporteer nie “petty crime” nie. Die vrou het dit bloot ter wille van ‘n
versekeringseis vir ‘n duur erfstuk gedoen.
Dit is laat in die dag as roof ‘n “petty crime” geword het wat nie gerapporteer
behoort te word nie.
Nie baie ver daarvan nie is ‘n ondersteuner van die besoekende Leeutoer wat
met die sokker ooreengeval het, Midge Fergusson, naby sy gastehuis oor die
kop geslaan en beroof. Dié insident het nie die plaaslike koerant gehaal nie,
maar Fergusson het in ‘n media-onderhoud wat internasionaal versprei is gesê
hy het die indruk van die polisieman wat hom in intensief besoek het, gekry dat
die polisie meer besorg is oor die slegte publisiteit wat die insident inhou, as oor
die misdadiger wat op vrye voete verkeer.
Suid-Afrikaners wil nie swartgallig wees nie, maar as die Dienders wys hoe hulle
die misdadigers die loef kan afsteek, en as die land se kroonprins die land se
beeld so deur die modder sleep, dan is ‘n titseltjie swartgalligheid te verstane.
Daar is baie ander, en goedkoper maniere, waarop goeie polisielede vir goeie
diens beloon kan word anders as om ‘n gasheerstad op horings te neem.

Nuuskommentaar: Nuwe besems


Niks kan erger as Lawwe Lulu wees nie.
Vir die land se kommersiële landbousektor het ‘n skynbaar nuwe dag
aangebreek toe Pres. Jacob Zuma Lulu Xingwana na ‘n ander portefeulje geskuif
het, en wyle Dirk du Toit uit sy span weggelaat het.
In hul plek het onderskeidelik Tina Joemat-Pettersson en dr. Pieter Mulder
gekom, en na aanvanklike uitsprake het dit gelyk of kommersiële boere nou hul
Aspoestertjie-status kwyt sou wees.
Dat alles nie pluis sou wees nie, moes dalk reeds afgelei gewees het toe die
departement steeds dawerend oor plaasmoorde en plaasaanvalle swyg.

20
Joemat-Petterson het ook erken dat die kundigheid in haar departement
ontbreek om boere se tariefbelange aan te spreek. Die georganiseerde landbou
het sy dienste gratis aangebied, en die minister het dit aanvaar.
En daarna is niks weer hieroor van die minister gehoor nie, en boere, veral
graanboere, se probleme bly in wese onveranderd.
Dit herinner aan die Dirk du Toit-era waar die minister by ‘n vergadering boere,
waarby sy departemente van Landbou en van Grondsake goed verteenwoordig
was, boere vra vir voorleggings om ‘n klagtedirektoraat op die been te bring,
omdat sy eie kantoor nie die volle neerslag van onbevoegde of onwillige
amptenare kan hanteer nie. Wanneer hy egter tydens die verrigtinge ‘n
onderhoud voor die TV-kameras doen, sing hy ‘n gans ander deuntjie.
En swyg oor plaasaanvalle.
In Europa is dit nie vreemd nie as boere opruk en met hul plaasinstrumente groot
chaos veroorsaak nie. Veral die Franse boere het al so internasionaal die nuus
getref.
Een maal het Suid-Afrikaanse boere ook in die taal gepraat wat die regering
blykbaar verstaan, en die sogenaamde trekkeroptog in Pretoria gehou.
Gewoonlik is dit egter nie die Suid-Afrikaanse kommersiële boere se styl nie, en
word ‘n ordentlike proses via georganiseerde liggame gevolg waar elektroniese
voorleggings en lesings deur akademici volop is. In verskeie provinsies is reeds
indrukwekkende veiligheids- en intelligensiestrukture opgerig en blyk dit dat talle
plaasaanvalle moontlik reeds hierdeur verhoed is. Maar intussen word die aantal
kommersiële boere al hoe minder, en neem plaasaanvalle toe.
Intussen kom daar steeds uit regeringskringe gereelde verbale aanvalle op
boere.
Kan ‘n land wie se kosmandjie onder soveel druk verkeer werklik nog bekostig
dat sy groot voedselprodusente se tyd deur bykans enigiets behalwe om te boer
opgeneem word? Die boere is nou ook politici wat hul belange by die regering
moet dien, administrateurs wat ‘n magdom wetgewing se administrasie moet
behartig, munisipaliteite wat aan hul werkers en voormalige werknemers verblyf
van kwaliteit moet voorsien, die staat wat onderwys moet voorsien, wat hul
sakebelange moet diversifiseer om te kompenseer vir die landbougedeelte wat
dikwels nie lonend is nie en boonop aan natuurelemente en swak
regeringsbesluite uitgelewer is, en hy is voltydse soldaat of polisieman wat sy
gesin teen plaasaanvalle en sy vee en oeste teen diefstal moet beskerm, en hy is
vir lang tye nog brandweerman ook omdat die veld in Suid-Afrika, volgens die
polisie, so geneig is om vanself aan die brand te slaan.
Voeg hierby ambulansman, natuurbewaarder, padbouer....
En al wat die meeste eintlik wou doen, was om te boer.

Nuuskommentaar: Terwyl Rome brand


Pres. Jacob Zuma verseker met ‘n besoek aan Switserland die wêreld dat Suid-
Afrika se veiligheidsplan vir die 2010-wêreldskokkerbekertoernooi in plek is.
Of dit nóg ‘n geval van ambisieuse planne is wat nie op grondvlak neerslag vind
nie, soos verskeie onderwysplanne, sal nog gesien moet word. Op grondvlak is

21
daar nog nie veel tekens dat die plan reeds in plek is nie, gegewe die vlaag
wrede moorde, plaasmoorde ingesluit, wat die land ruk.
Om ‘n plan, of dan ‘n strategie, te laat vlot is dit nodig om al die eendjies in ‘n ry
te kry. Wanklanke soos dié van Julius Malema en die status wat hy in die ANC
geniet, van die ANC in Pretoria om juis nou die naamkwessie op ‘n spits te dryf,
mense in die gasvryheidsbedryf wat hul pryse vir die toernooi – waarskuwings
ten spyt – die hoogtes laat in styg het en nou vir ‘n lae besprekingskoers
geblameer word, dra alles daartoe by dat die land nie in een juk oor hierdie saak
trek nie.
Trouens, ‘n ellelange lys kan opgestel word. Provinsiale paaie en selfs strate in
dorpe wat meer gat as pad word terwyl superstadions verrys laat suur sop
deurloop. In die Vrystaat is die beskikbare begroting om die paaie op ‘n
aanvaarbare standaard te kry ongeveer net een tiende van wat nodig is, selfs
nadat die AA verlede jaar gewaarsku het dat die land teen die huidige tempo oor
dertig jaar nie meer teerpaaie gaan hê waaroor gekla kan word nie.
Hoewel die land se Vigs-besmettingskoers die vernaamste oorsaak is, help die
standaard van gesondheidsorg ook nie dat Suid-Afrikaners se gemiddelde
lewensverwagting, 47 jaar, nou maar net meer as die helfte van Europa se
ongeveer 80 jaar is nie.
Dit verg geen wiskundige of statistiese vernuf om die ongevalle onder die
sokkerbesoekers te bereken as die moordkoers ongeveer 40 per 100 000 van
die bevolking, die aangemelde verkragtingskoers 150 per 100 000 en die
werklike volgens maatskaplike werkers tussen tien en dertig keer hoër is,
aanranding met die opset om ernstig te beseer meer as 400 per 100 000 en
gewapende roof 250 per 100 000 is nie. Hierdie syfers sou onder normale
omstandighede geld, maar omdat soveel aan ‘n veiligheidsplan gespandeer
word, kan dit beïnvloed word. Dit wil egter ook voorkom, en sommiges sê selfs
so, dat misdadigers juis hul planne gereed kry om die buitelanders te teiken.
Die foefie om te paai dat dit in ander lande ook maar onveilig is hou nie steek
daarmee nie dat die wêreld se gemiddelde moordkoers in die orde van 5 per 100
000 is nie. Suid-Afrika s’n is dus ‘n netjiese agt keer hoër, en hoër as dié in
verskeie oorlogsgeteisterde gebiede.
Dat die geweldsmisdaad in Suid-Afrika met soveel grusame sadisme gepaard
gaan help ook nie om die misdaadprentjie uit die buitelandse oë te hou nie.
Presies in hoe ‘n mate alle eendjies in ‘n ry is, kan tereg gevra word as die polisie
‘n verslaggeefster wat vir Le Monde verslag doen in, soos sy skryf, oorvol vuil sel
gaan prop? Dié beriggewing het sommer saamgeval met die aanval op ‘n Duitse
toeris in die gastehuis in Kaapstad waarin hy tuisgegaan het.
Om sake te vererger, is die regering suinig én selektief met die veroordeling van
gevalle van grusame geweldsmisdaad. Terwyl die regering skynbaar
volstruispolitiek speel, kry die leier van ‘n baie klein politieke party twee oproepe
van die media uit Europa om kommentaar oor ‘n plaasmoord te lewer. Dit vereis
geen Einstein-intelligensie om te verstaan waarom die media in Spanje,
byvoorbeeld, nou so in nuus oor ‘n plaasmoord belangstel nie.

22
Terwyl van die “gewone” aanstigters tot verdeeldheid, soos Komphela en Neels
van Rooyen, nou skynbaar voorlopig takties die swye opgelê is, is geen muilband
vir Malema en kie in sig nie.
Kom die eendjies nie in ‘n ry nie kan die aanval tydens die
Konfederasiebekertoernooi op die Brit, Midge Fergusson, vir Suid-Afrika ‘n reuse
kopsorg baar.

Nuuskommentaar: Ons en hulle


‘n Opvallende kenmerk van die debat tussen meningsvormers, hetsy in
briewekolomme, koerantrubrieke of die internet, oor hoe die middelpuntsoekende
en middelpuntvliedende kragte in Suid-Afrika neerslag vind, is die standpunt-
innames rondom die “ons” en die “julle.” Ras, eerder as kultuurgoedere, is
dikwels die norm, en hoewel die pot die ketel verwyt, staan feitlik almal agter die
deur.
Diversiteit wat neerslag in die volkereg en grondwette vind, is internasionaal
eerder die norm as die uitsondering, en vind op beskeie outonomie-skaal soos
spesiale regte binne Indiaanse reservate tot ‘n Maorie-kongres neerslag, tot op
meer ingrypende selfregeringsvlakke soos in Indië, België, Kanada, Spanje en
vele meer. Volkome sesessie is ook volkeregtelik nie ‘n vreemde verskynsel nie,
soos wat met die ou Tseggo-Slowakye, Joegoe-Slawië, Eritrea en ander gebeur
het.
Suid-Afrikaners basies die internet raadpleeg om omvattend te weet wat die
omvattende gebeure op internasionale vlak is. In die alternatiewe wêreld as dit
wat die Suid-Afrikaanse media in hoofsaak aan sy lesers opdis kry Indië nou nog
‘n bykomende etniese deelstaat, het die Tamil-kwessie in Sri-Lanka nog nie gaan
lê nie en is trouens nou weer ‘n verkiesingsaspek in die geweldgeteisterde
verkiesing wat nou plaasvind, is daar ‘n internasionale Armeense lobby ter
voorbereiding van die 100-jarige herdenking van die Armeense volksmoord aan
die hand van die Turke oor vyf jaar, het ETA sy 50ste bestaansjaar bloedig
gevier en vele meer. Die bronne hiervoor is nie obskure webtuistes wat vanuit
agterplase bedryf word nie, nmaar die webtuistes van gerespekteerde koerante
in Europa, die VSA, Indië en vele meer. Hul statuur regverdig kwalik ‘n
volstruispolitieke benadering oor hul inhoud deur ons media nie.
Nuus oor hoe heterogeniteit internasionaal staatkundig neerslag vind is Suid-
Afrikaners skynbaar om politieke korrekte redes nie beskore nie.
Tog is daar geen probleem met nuusdekking om oor die onbegeleide
manifestasies te berig en sodoende die temperatuur op te jaag nie. Julius
Malema, voorbok-aanhitser, is besig om onder volkstaters ‘n held te word omdat
hy, soos dit gereeld op die internet gestel word, nog ‘n duisend mense tot
volkstaters bekeer elke keer wat hy sy mond oopmaak. Sy gebruik van die “ons”
en die “hulle” wanneer hy langs rasselyne blankes met die teerkwas bydam bly in
die nuus.
Trouens, so geaksentueerd het die “ons” – “hulle”-kwessie geword dat Beeld se
redakteur ‘n rubriek hieraan afgestaan het.
Met ‘n skeefgetrekte begeleiding van wat in terme van internasionale gebruik
fatsoenlik is, is dit te wagte dat die polariserende Suid-Afrikaanse bevolking,

23
lomp en nog meer polariserend op die aangebode nuus sal reageer. Terwyl
akademici vanuit liberale ivoortorings ergerlik op die gebeure reageer, is hulle in
terme van die neerslag op grondvlak eerder aanhitsend in hul neerhalende
vloermoere as irrelevant, en nog minder probleemoplossend. Op die ander
uiterste van die spektrum het mense ook asem geskep om die vind van ‘n
middelgrond volgens volkeregtelike beginsels baie moeilik te maak.
Presies hoe en hoekom sake polariseer is kan nie in ‘n neutedop saamgevat
word nie. Die Jong Kommunistiese Liga (JKL) se optog in Noordwes en
oorhandiging van eise wat op die verbod van Afrikaans in skole neerkom, is ‘n
voorbeeld van polariserende, en boonop, ongrondwetlike gedrag.
Die doodse swye van ‘n premier in wie se provinsie vanjaar reeds drie baie
grusame plaasmoorde plaasgevind het is erg, maar toe ‘n swart meisie wreed
verkrag word en aan haar beserings beswyk, was die premier gou uit die blokke
om dit te veroordeel.
Trouens, slegs enkele partye het ewehandig oor dié misdade opgetree, en
daarmee word nie dié partye bedoel wat oor al hierdie moorde soos die graf
geswyg het nie.
Die JKL se optrede raak-raak aan ‘n verdere manifestasie van die polarisasie,
naamlik die taalkwessie soos dit in hofuitsprake oor skole, en die akademiese
kleilatgooiery op universiteite ontaard, maar net so polariserend is.
Politici en rolspelers wat belangstel om die polariserende proses te begelei, na
welke vreedsame bestemming ook al, moet hul liberale ivoortorings verlaat en
die kwessie volledig informatief en holisties aanspreek.
Om heterogeniteit weg te wens werk nie. Om heterogeniteit te onderdruk soos
Franco se Spanje wat Baskies verbied het, en Turkye wat die Armeense
bevolking nie net in Turkye naastenby uitgewis het en die onderdrukking en
chemiese bombardemente van Koerde in verskeie lande werk nie. Sri Lanka leer
ook nou die les dat ‘n militêre oorwinning oor die Tamils neerkom daarop om ‘n
wilde tier in die tuig te probeer inspan. Selfs Frankryk wat die mees suksesvolle
land was om selfs groot minderhede te verfrans het nog nie die klein Baskiese
verset behoorlik onder die knie nie, terwyl Korsikaanse separatisme van tyd tot
tyd aktief raak.
Die geskiedenis is ‘n handige leerboek. ‘n Volgende geslag het die voordeel om
lesse uit die foute van die verlede te leer. Die destydse Britse Premier, Neville
Chamberlain, het geglo die “policy of appeasement” teenoor Hitler sou werk. Toe
nou nie.
Tog kry Suid-Afrika nie die mislukte , bykans identiese, beleid van stille
diplomasie van Mbeki teenoor Robert Mugabe uit sy baadjie geskud nie. En die
prys wat Suid-Afrika hiervoor betaal word al groter en groter.
Die JKL se onkunde kan nog voor die deur van ‘n – selfs in Afrikaterme –
bedenklike skoolstelsel toegeskryf word. Die liberale geïrriteerdheid met hoe
sake anders as in hul ideologiese drome manifesteer, is moeiliker verskoonbaar
en lyk na ideologiese kantkiesery eerder as akademiese suiwerheid.

24
Nuuskommentaar: Plaasmoorde
Terwyl die regering gewoonlik dawerend swyg oor plaasmoorde en ministers, en
selfs die adjunk-president woordkeuses gebruik wat daarop neerkom hulle meen
boere is self vir die plaasaanvalle verantwoordelik weens ‘n herhaalde stroom
berigte dat boere hul werkers swak behandel en selfs mishandel, is die TLU SA
beswaard omdat een van sy streekvoorsitters ‘n naweek lank toegesluit is en van
moord aangekla word nadat hy en bure in ‘n skietgeveg met veediewe betrokke
was.
Dit is nie die eerste keer dat ‘n boer toegesluit is na ‘n skietvoorval met ‘n
aanvaller nie. Veral Noordwes haal gereeld die nuus hieroor, maar in die
Vrystaat het ‘n vroueboer ook agter tralies beland en is later vrygespreek.
Ongelukkig bly die regering se reaksie op plaasaanvalle nie net by swye nie. ‘n
Klag is byvoorbeeld reeds teen die adjunk-president gelê omdat hy na bewering
gesê het boere is self hiervoor te blameer weens die swak behandeling van hul
werkers. Uit regeringskringe word die stelling selfs dikwels gemaak dat boere hul
plaaswerkersmishandel. ‘n Bekende voorbeeld was dié van minister Lulu
Xingwana op Kerkplein, wat geblyk het op ‘n enkele voorval in die Wes-Kaap
gebaseer te gewees het..Dit het boonop aan die lig gekom dat die Onafhanklike
Klagtedirektoraat reeds sewe maande tevore bevind het dat die bewering teen
die boer vals was, en die regering in ‘n verslag so ingelig was.
Dit is reeds bekend dat plaasaanvallers hulle nie steur aan hul slagoffers se
ingesteldheid jeens medemense nie. Die jongste Vrystaatse slagoffer was juis as
filantroop bekend, en tog is sy kop vermorsel en keel afgesny vir R50 en ‘n
selfoon.
Die buitengewone trauma wat oorlewendes en hul naasbestaandes beleef is
ongelooflik. Niemand kan nié geruk wees nie as die dogter van ‘n bejaarde wie
se voetsole afgeskil is om die aanvallers te wys waar ‘n nie-bestaande kluis is,
hom bel en van haar en haar pa se trauma vertel. Die dorpie Kokstad is so erg
deur plaasaanvalle geruk dat die kerke met gedenkdienste stampvol was. Toe
die getraumatiseerde gemeenskap padpredikante wou oprig om besoekers te
waarsku dat die omgewing gevaarlik is, het die owerhede met groot ontsteltenis
gereageer.
Die besondere trauma van plaasaanvalslagoffers, soms bekend as
viktiminologie, word vererger nie net weens die voortgesette blootgesteldheid en
onsimpatieke regering nie, maar die feit dat hulle steeds die trauma moet
verwerk wanneer die omringende gemeenskappe weer met hul lewens aangaan
asof niks gebeur het nie.
Geen wonder nie dat verskeie leiers reeds na die plaasaanvalle as ‘n vorm van
landelike terreur verwys het. Die regering se reaksie hierop skep boonop die
indruk dat die aanvalle meer as net stilswyend gekondoneer word. Sommiges
beweer selfs dat die afskaffing van die kommando’s sonder dat die beloofde
plaasvervangende stelsels in plek was, gegewe die statistiese omvang van
plaasaanvalle en plaasmoode, op volksmoord neerkom en dat so ‘n saak
kragtens die volkereg uit te make is.
‘n Paar jaar gelede het ‘n opposisieparty se landbouwoordvoerder en self ‘n boer,
gesê hy vind dit al moeiliker om nog woorde te vind om op plaasmoord na

25
plaasmoord te reageer. Sedertdien moes hy maar net nog woorde vind want die
moorde het nie opgehou nie.

Juliaanse “logika”
“Ek het gekom, ek het gesien en ek het ‘n verskriklike klomp bollie kwytgeraak.”
Aan die woord by die Kovsiekampus was Suid-Afrika se kroonprins en de facto
premier, mnr. Bitterbang Bibberbeentjies Malema.
Die geleentheid ‘n saamtrek van Kosviestudente uit die Sasco-ANC-jeugliga-
verdampkring.
Normaalweg meen ek, Blik Oor, dit is beter om Bitterbang (‘n hele R300 000 per
maand bang) te ignoreer, maar dié keer was Hoeterbek se juweeltjies opnuut
onignoreerbaar. Hy het naamlik ‘n paar brokkies inligting wat almal geweet het,
maar tot dusver ontken is, nou in die openbare domein geplas.
Wie is in beheer van die universiteite? Nee, nie die raad, die minister wat via die
Kabinet aan die parlement verantwoording doen nie, en allermins die Roelf-
grondwet. Nee, erken Bibberbeentjies, die ANC het die beheer by die
Broederbond afgeneem.
Dit, meen Jors Troelie, beteken dat Afrikaanssprekendes hulle ook nie op die
grondwet sal kan beroep om moedertaalonderrig te verseker nie. Net soos wat
verslaggewers vind die regering – lees ANC – se ooreenkoms met Sanef dat die
regering die verslaggewers se beskerming van hul bronne sal respekteer, nie die
papier werd is waarop dit geskryf is nie. Vra maar vir E TV.
En vir diegene wat nie kans sien om die berigte oor Bibberbeentjies se nuutste
Kovsie-orakel te lees nie, ja, hy het weer die blankes gekritiseer omdat hulle nie
die belangrike byeenkomste bywoon nie. Hy wil ‘n jaar diensplig instel sodat jong
mense beter verstaan hoekom dit belangrik is. Hy sê die ANC staan nie
veelrassigheid voor nie, maar nie-rassigheid.
Nou verstaan ek hoekom prof. Jonathan Jansen sê Bibberbeentjies is slim –
moes geniaal bedoel het want die kopkrimpers sê ou Blik Oor se IK val in die
“superieur-kategorie”, en dit is baie, baie duidelik heel ontoereikend om
Bitterbang se geniale logika te volg. Soos hoe mens nie-rassigheid bevorder
deur ritse rassistiese opmerkings te maak, en die heel tyd na “ons” en “julle” te
verwys? Eskom het nie meer genoeg krag om daai liggie te laat aangaan nie,
want hy is gefjeus. Soos die Ore se rekenaars en wasmjiene en goete met
elektronika gereeld fjeus omdat Eskom ‘n nuwe betekenis aan die begrip
“wisselstroom” gegee het.
Om terug te keer na E TV. Bibberbeentjies wil weet of iemand, as hy weet
iemand gaan die Uniegebou opblaas, die polisie of die media gaan bel.
Die mindere Blik Oor-intelligensie lewer ‘n antwoord min of meer soos volg op:
Dit hang af of die persoon wat die nuus opdoen, wil hê die Uniegebou moet in
flarde opgaan. As hy ‘n ramp wil voorkom, bel hy die media, want as hy die
polisie bel, gaan een van ‘n paar dinge gebeur: a) Die polisie gaan nie die
telefoon beantwoord nie, b) die polisie gaan nie iemand beskikbaar hê wat
Afrikaans (een van die land se amptelike tale en spesifiek ‘n amptelike taal in al
nege provinsies, vir diegene wat al vergeet het) kan verstaan nie, of c) die polisie
gaan nie voertuie hê nie.

26
Hy sal dus liefs die media bel, wat in ‘n japtrap op die toneel sal wees, en vir die
“sekuriteit” aan diens sal inlig.
Ek het net so ‘n spesmaas, as die een wat die kennis kry ook verneem dat net
Bitterbang in die Uniegebou is, gaan baie nie die media of die polisie probeer bel
nie, maar met ‘n kamera afsit Uniegebou toe. En dan die foto’s ten duurste aan
Huisgenoot verkoop.
Bitterbang wil ook weet hoekom die wittes, of dan eerder liggroenes synde hy en
die ANC nou so nie-rassig is, nie die hand van vriendskap wat Madiba en Zuma
na die liggroenes uitgereik het (verlede tyd) wil vat nie.
Volgens die mindere Blik oor-logika klink dit in die handel en wandel egter of
daar nog by baie ‘n versugting na handevat met die “ikoon” Madiba is, maar dat
Mbeki taamlik hard ‘n wig kom indruk het, en Zuma toe vir Bitterbang tot
kroonprins kom salf het. QED, as’t ware.
Ek kan sonder veel breinsweet aan nog baie, baie voorbeelde dink, maar hierdie
is al oorgenoeg rede.
Gegroet
Blik Oor

Uitvoerende burgemeesters se uitvoerige blapse


Niemand, behalwe die soustreinryers self, sal probleme hê daarmee dat die ANC
beplan om van die stelsel van uitvoerende burgemeesters ontslae te raak nie.
Trouens, hoe gouer hoe beter, soos die TLU SA dit in effense ander woorde
uitdruk.
Hierdie gedagte volg nie baie lank nie nadat die ANC nog kort-kort vlieërs
opgestuur het oor die moontlikheid om die provinsiale bedeling af te skaf. Die
gedagte was dan dat die vakuum minstens ten dele deur die munisipaliteite gevul
sou word wat in nog groter monstrositeite omskep sou word.
Die grondwetlike beginsels waarop by Kemptonpark ooreengekom is, is egter oor
hierdie sake baie duidelik. Punt XVI stel dat die regering op nasionale,
provinsiale en plaaslike vlak gestruktureer sal wees. Die volgende punt stel dit
dat die verteenwoordiging op elkeen van hierdie vlakke demokraties verkose sal
wees. Grondwetkenners verskil oor die bindendheid van hierdie beginsels.
Met die planne om van die provinsiale bedeling ontslae te raak was daar egter
min erg aan die bepalings van die grondwetlike beginsels. Wat is die posisie
egter met die stelsel van uitvoerende burgemeesters?
Kritiek op die stelsel is wyd-uiteenlopend. In wese kos dit te veel en tweedens
gee dit aan die burgemeesters en hul uitvoerende rade magte wat kundigheid
vereis wat nie beskikbaar is nie. Dit word vererger deurdat hierdie ampte as
aflaaiplek vir politieke ontplooiing dien sodat uitgediendes nie die soustrein
verpas nie.
Die gevolg is ‘n peperduur stelsel wat weens lae betaalkoerse nie bekostig kan
word nie, en in elk geval nie werk nie soos die OG-verslae jaar vir jaar bewys.
Boonop is die politieke partye aan bewind nie altyd in voeling met hul partye se
nasionale beleid nie, wat regeerbaarheid ernstig kortwiek. ‘n Voorbeeld was
byvoorbeeld toe die DA in die Vrystaat vuur gespoeg het oor die pogings van ‘n
paar Vrystaatse munisipaliteite om voortydig grondbelasting op landbougrond te

27
probeer hef, terwyl die DA-raad van Cullinan (Nokeng) dit self geïmplementeer
het en dié onregmatige heffings nou blykbaar terugbetaal moet word.
Dit was egter die lengte van die soustrein wat soms verstom het. ‘n Vorige
uitvoerende burgemeester van Mangaung (Bloemfontein en omstreke) staan nou
tereg op aanklagte van onder meer rampokkery en korrupsie. Dit is egter die
titels van sommige van sy mede-aangeklaagdes wat die oë laat rek – mense
soos politieke adviseurs. Kritici op die stelsel wys onder meer daarop dat dit hom
tot nepotisme en korrupsie met tenders leen. In die Mangaung-geval word die
burgemeester se vrou se spysenieringsonderneming juis geïmpliseer.
Nog ‘n verstommende verskynsel is dat ‘n bitter klein munisipaliteit in die Karoo,
met bykans geen inkomste nie, se burgemeester, raadslede en topamptenare die
een ekskursie na die ander oorsee wou onderneem en dan uiters suur raak
omdat belastingbetalersverenigings dan dispute verklaar en aandring dat die
geld vir iets soos dienste aangewend moet word. Met riool wat die strate afloop is
die aankoop van ‘n peperduur burgemeesterskar hoër op die agenda. Dis juis
hierdie vuurwaens wat al die oë laat rek het – motors met ingeboude
drankkabinette, en in die geval van Rustenburg, selfs ‘n satelliet-navigasiestelsel
sodat, soos dit verduidelik is, die burgemeester nie dalk verdwaal as hy sy
gemeenskap besoek nie. Een van die swakste Vrystaatse munisipaliteite het in ‘n
stadium koeëlvaste motors op bestelling gehad, en dan tog die brandweer
ingespan om die burgemeester se dogter van die skool na die huis te neem. ‘n
Raadslid is uit die Raad gejaag weens sy taalgebruik toe hy opgemerk het dat ‘n
burgemeesterskar wat afgeskryf is, net so gou in daardie toestand kon verval
het as iemand dit deur sy agterent getrek het.
‘n Suid-Kaapse munisipaliteit het onder DA-beheer vir die onderburgemeester ‘n
ampsmotor gehuur en voortgegaan om ‘n vervoertoelaag te betaal.
Die vraag is egter of daar nie op ander regeringsvlakke ook groot besparings
moontlik is nie. Is pres. Zuma se vergrote Kabinet nie buitensporig nie? Is dit
werklik nodig dat die kleiner provinsies se Uitvoerende rade uit ‘n premier en tien
lede moet bestaan, terwyl die provinsiale departmentshoofde in elk geval
veronderstel is om kundiges te wees?
Is dit werklik nodig dat Suid-Afrika naas die Menseregtekommissie ook ‘n
Kommissie vir geslagsgelykheid moet hê? Is vroueregte dan nie menseregte
nie? Het die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van Taal-,
Godsdiens- en Kultuurregte in sy huidige gedaante en wetlike beperkings
hoegenaamd nodig, en hoekom is Pansat deesdae so stil te midde van
ooglopende vergrype teen taalregte by skole?
Die lakmoestoets bly egter: geskikte mense moet in ampte dien en in poste dien,
anders gaan die gemors net so groot bly, maar darem teen ‘n laer tarief.

Nuuskommentaar: Popcru se beergreep op die SAPD


Niemand sal stry dat die beleërde Vrystaatse polisiehoof, Amon Mashigo, met sy
aanstelling ‘n nuwe besem was wat skoongevee het nie. Hy was gereeld in die
nuus oor hoe hy persoonlik by die bekamping van misdaad betrokke geraak het.
Hy het in gloeiende nuusdekking gedy.

28
Sy aanstelling het gevolg op ‘n baie ongelukkige era waartydens verskeie
vakbonde betrokke was oor ‘n skynbare skrikbewind wat Popcru in die Vrystaat –
en ook elders - gevoer het. Polisiebeamptes wat nie lede van Popcru was nie, en
as bestuurslede dissiplinêr teen Popcru-lede opgetree het, het dikwels die
tweede beste daarvan afgekom.
In ‘n saak waar ‘n bevelvoerder weens die beweerde misbruik van
verklikkersgeld krimineel vervolg is, het die staatsaanklaer later gedreig om hom
aan die saak te onttrek omdat die destydse polisiehoof volstrek het om die
aangeklaagde te skors of elders aan te wend om dit vir die staatsgetuies,
polisiebeamptes onder sy bevel, moontlik te maak om sonder viktimisasie te
getuig.
Die voorbeelde was legio, en het verskeie vakbondondersoeke en verslae tot
gevolg gehad wat skynbaar net so onder die mat gevee is.
Toe kom Mashigo.
Dit het egter nie lank geduur nie of vreemde skorsings en die ontslag van nie-
Popcru-lede het weer in die nuus begin beland, terwyl veral een geval van die
teenoorgestelde aard ook die nuus begin haal het. In hierdie geval is ‘n
polisiebeampte wat geskors was na hy ‘n kollega so erg aangerand het dat
rekonstruktiewe chirurgie nodig was, se skorsing nie net opgehef nie, maar is hy
ook bevorder terwyl verskeie regsprosesse nog in proses is. Na bewering is die
Mashigo, en hierdie polisiebeampte wat ‘n lang lys van beweerde ongure
optredes agter die blad het, huisvriende.
‘n Interessante tussenspel was dat die Vrystaatse polisie in opdrag van Mashigo
alle kommunikasie met Volksblad opgeskort het, en ‘n klag by die
Persombudsman ingedien het. Mashogo het die klag later laat vaar en die boikot
opgehef – skynbaar na druk van bo.
Intussen het ‘n verslag van die Onafhanklike Klagtediretoraad oor beweerde
optredes van Mashigo aan die pers gelek, en nou word ‘n ‘n forum van
verontregtes gestig. Wit en swart lede en oud-lede van die SAPD is betrokke.
Die situasie ontvou terwyl die SAPD skynbaar ‘n ope uitnodiging aan oud-
gediendes gerig het om na die SAPD terug te keer en sodoende die polisie se
kapasiteit en kundigheidsvlakke te versterk. Solidariteit het intussen die SAPD
daarvan beskuldig dat hy uit twee monde praat en gevalle genoem waaruit dit
blyk asof hierdie ope uitnodiging nie werklik so oop is nie.
Solank Popcru egter ‘n beergreep op die SAPD het, so lank sal sake nie normaal
kan verloop nie. ‘n Groot deel van die probleem is Popcru se affiliasie by Cosatu,
en Cosatu se alliansie met die regerende ANC. Hierdeur is Popcru nie net
wydsbeen deel van die staat se uitvoerende en wetgewende gesag nie, maar
spesifiek in een van die gewapende magte – iets wat in ‘n normale demokrasie
soos ‘n klip in die maag lê, en waarvan die gevolge net te veel gesien en gevoel
word.
Pas het E-TV ‘n program – tot ontsteltenis van die SAPD – uitgesaai waarin
misdadigers geen geheim daarvan maak nie dat hulle beplan om tydens die
komende Fifa-toernooi, buitelandse besoekers te teiken nie. ‘n Tweede beste of
gebrekkige polisieoptrede tydens die toernooi weens die onaantasbaarheid van
vrot appels is nie in landsbelang nie.

29
Croukamp se liberale vloermoer
As akademikus het dr. Piet Croukamp op RSG se program, Kommentaar,
jammerlik gefaal toe die huidige debat oor die volkstaatgedagte aan die bod
gekom het. In plaas van om ‘n akademies verantwoordbare agtergrond te skets,
het hy emosioneel die gedagte aan die hand selfverklaarde liberale beginsels
aangeval.
Hy het as sterk voorspraakmaker vir liberalisme ingetree, wat nie weerspieël dat
dit ‘n gedagterigting is was wyd, soos in Europa, die wind van voor kry nie soos
blyk uit ‘n artikel van Jan-Jan Joubert, maar meer gereeld deur dr. Leopold
Scholtz.
Dit sal jammer wees as die liberale respons vervlak tot die punt waar dit net die
wegsmyt van speelgoed uit die kot behels.
Die debat oor die Volkstaat het nog min gefokus op die haalbaarheid van die
liberale alternatief, en dit is hier waar die kwessie belig word.
Croucamp het self ‘n leidraad gebied oor hoe die liberale op die
middelpuntvliedende kragte moet reageer wat nou so volkstaatsentimente
aanwakker. Dit kom daarop neer om die spraakvryheid wat liberalisme bied, te
gebruik om die droogmaak van die regering aan te spreek.
Presies hoe goed werk dit in die praktyk?
Nog lank voor die vorige algemene verkiesing by die stembus gevorder het, het
talle stemme begin opgaan dat die DA se styl waarmee dit die regering en
regeringsleiers (die ANC) aanval, gaan boemerang. Die gevolg was dat die
verkiesing, soos dr. Pieter Mulder dit onlangs weer gestel het, op ‘n rassesensus
neergekom het. Verskeie gesprekke moes na die verkiesing gevoer word om die
lug effe gesuiwer te kry.
Reg of verkeerd, maar dit is die praktyk.
Kort hierna het dieselfde swart redakteurs wat die selfopgelegde perssensuur
van politieke korrektheid verbreek het deur bv die krane teen oud-president
Thabo Mbeki oopgetrek het, begin rem vasskop en sommiges in selfs geen
onduidelike taal nie gewaarsku dat dié soort kritiek swart geweld kan ontlok.
Kort hierna het ‘n paar wit negrofiliste in hierdie koor begin saamsing.
Presies hoeveel liberale demokrasie bly oor as die uitoefening van hierdie opsie
dié soort respons kry?
Of bietjie anders gestel: Is hierdie respons werklik minder gevaarlik as die
respons op die volkstaatgedagte?
Croukamp het in sy reaksie wyd die “ons” by die liberalisme ingehark, deur onder
meer deur na die verkiesingsuitslae te verwys. As akademikus was dit lomp om
nie ook uit te wys dat dit wat kiesers volgens peilings wil hê of nie wil hê nie,
soos die herstel van die doodstraf, teenkanting teen aborsies op aanvraag en
ander tipiese sake op die liberale agenda, nie in hul verkiesingskeuses
weerspieël word nie. Kortom, die kiesers se stem reflekteer veel meer ‘n laertrek-
mentaliteit as die uitoefening van hul beginsels, bv, ons stem vir die DA want
hulle is die sterkste opposisie teen die ANC. Die maklike vergelyking is dat wit
kiesers nou hier tegnies ‘n ander ideologiese koers inslaan as die kiesers in
Wes-Europa. Hoekom anders as ‘n laertrek-mentaliteit?

30
Die DA akkommodeer dit wel op die oog af deur aan kiesers en
verteenwoordigers keusevryheid te bied oor sake soos die doodstraf, aborsies op
aanvraag en gay huwelike. Dit probeer dus alles vir almal wees. Dit verg egter
nie ‘n akademiese kragtoer om te besef dat hierdie opsie slegs deug solank die
DA in die opposisie is nie. Sou die DA, hipoteties, aan bewind kom sou dit moet
besluit na watter kant toe, en ongeveer die helfte (of selfs meer as die helfte) van
die DA-kiesers gaan ervaar dat hulle nou iets kry waarmee hulle glad nie
saamstem nie, en trouens, dalk uit beginsel, baie sterk oor voel.
Oor watter rigting die DA dan gaan koers inslaan kan min twyfel wees, gegewe
die party se lidmaatskap van Liberaal Internasionaal. Om die ontgogelde kiesers
te paai sal die “verduideliking” waarskynlik wees soos Cope se reaksie op lede
se pleidooi vir die herinstelling van die doodstraf: “Die grondwet verbied dit.
Punt.”
Wat natuurlik nie die waarheid is nie. Presies dieselfde bewoording wat hier tot
die ophef van die doodstraf gelei het, verhinder verskeie state in die VSA nie om
dit so uit te lê dat teregstellings steeds plaasvind nie. Dit sou liberaal eerliker
gewees het om vanuit die staanspoor eerlik met die kiesers te wees, en nou
reeds agter die grondwet te skuil.
Die tipiese liberale demokraat stel aan kiesers die keuses om te stem waarvoor
hulle wil. Kom dit egter by die volkstaatgedagte tree ‘n verbete geniepsigheid in,
en word byvoorbeeld verswyg dat die moderne volkereg veel simpatieker teenoor
die onderbou van die volkstaatgedagte, soos groepregte, outonomie en
sesessiereg staan as teen gedwonge assimilasie wat ernstige kenmerke van
outokrasie insluit.
Dit is uiteraard nie die liberale se taak om hierdie bemarking vir die
volkstaatgedagte te doen nie. ‘n Mens het net bietjie meer akademiese
suiwerheid van Croucamp verwag gegewe die feit dat niemand ander op die
paneel (twee Media 24-joernaliste) dit kon doen nie.
Sonder erkenning van dit wat die VN bepaal, en wat in die grondwette van Indië,
die Europese Unie, en juridiese praktyk in lande soos die VSA, Kanada,
Australië, Nigerië en vele meer praktyk is, word die kiesers deur ‘n liberale kartel
mislei.
Croucamp het Sondagaand die geleentheid gehad om hom as ‘n gebalanseerde
politieke wetenskaplike te ontvou, maar het eerder die keuse uitgeoefen om ‘n
liberale vloermoer te gooi.

Nuuskommentaar: Vernuftige voetwerk moet nou ‘n kragtelose Suid-Afrika


voorkom
Terwyl Eskom se planne om kragtariewe vir drie jaar lank teen bykans vier keer
meer as die land se inflasieteikens te verhoog, speel daar ‘n stryd op ‘n ander
vlak af.
Oor die land heen is daar talle private ondernemers wat lank reeds, of op die
punt staan om selfopgewekte krag in die Eskomnetwerk te stort, of aan plaaslike
munisipaliteite te verkoop. Van hierdie ondernemings ly egter groot skade terwyl
daar op ander vlakke klei getrap word, dikwels weens burokrasie, maar ook

31
omdat hierdie private voorsieners dikwels die krag teen ‘n hoër tarief wil voorsien
as waarteen Eskom dit self kan opwek.
Nie al hierdie private instellings se projekte het hernubare energie in die oog nie,
en kwalifiseer daarom nie vir die beoogde meevallers vir diegene wat hernubare
krag wil opwek nie.
Plek-plek is daar egter reeds vordering, soos by Bethlehem waar dié dorp nou ‘n
deel van sy kragbehoeftes voorsien uit ‘n privaat onderneming wat hidro-
elektriese krag in die Asrivier opwek. Dié rivier het ‘n sterk, kunsmatige stroom
danksy water wat onderdeur die Drakensberge van die Katse-dam kom,
onderweg na die Vaaldam.
Die regering se teiken is die opwekking van 10 000 GWh hernubare krag teen
2013, maar burokrasie en glipse vertraag die proses op die oomblik baie, sodat
nog min werklik beslag kry. Van hierdie private ondernemers stel uiteraard baie
belang in die tarief wat Nersa aan Eskom gaan toestaan, aangesien dit weer
Eskom se betaalvermoë aan voorsieners van hernubare krag sal bepaal.
Intussen is daar verskeie projekte om huishoudings se elektrisiteitsafhanklikheid
te verlaag deur sonkrag-warmwatertoestelle aan te bring. Die term,
ekovriendelike argitektuur, is selfs gebore.
Dat Suid-Afrika nog so in die kinderskoene staan van hernubare kragopwekking
is moeilik verstaanbaar. Die geleenthede is legio. Suid-Afrika het ‘n beduidende
potensiaal in bykans enige van die opsies soos sonkrag, windkrag, golfkrag en
metaansgaverbranding. Owerheidsbeleid was dikwels die doodsteek ter
beskerming van Eskom, soos die destydse verbod op ‘n rits
stroomversnellersaanlegte in die Oranje, soortgelyk aan dié wat in die Asrivier
nou een vir een in bedryf gestel word.
En toe gaan brand Eskom vas.
Wat die kwessie ‘n teer punt maak is dat dit gebeur het te midde van die
voortgesette betaling van reuse bonusse aan duidelik onbekwame bestuurders.
‘n Probleem is dat Eskom se regrukaksie hom vasloop teen die verbruiker se
beperkte betaalvermoë, wat vererger word deur die voorsiening van gratis krag
aan sommiges, en grootskaalse diefstal van nie net krag nie, maar infrastruktuur
soos kabels en geleiers.

Herrie se kerrie: Jan Brand


Toe pres. Jan Brand sy gevleuelde woorde geuiter het, "Alles sal regkom as
elkeen sy plig doen" meen Herrie het hy nie besef hoe hy die spyker op die kop
slaan nie.
Het hy byvoorbeeld kon voorsien dat 'n fabriek in die VSA wat te veel
fossielbrandstof in die atmosfeer loslaat, 'n invloed het op hoe groot 'n Vrystaatse
boer se mielie-oes is?
Of dat iemand wat in Rusland iets lekkers onder sy arm spuit om 'n meisie uit te
neem, kan bydrae daartoe dat iemand in België velkanker kry?
Teen hierdie agtergrond is dit nogal belangrik dat mense Nuwejaarsvoornemens
moet hê – van dinge wat hulle wil doen, en dinge wat hulle nie moet doen nie.
Soos om pligsgetrou te werk, en om nie hul swaarverdiende geldjies in likiede
bates te omskep nie.

32
Ja-nee, op elkeen rus baie verpligtinge van doen en late. Die lysie "late" is baie
makliker om saam te stel as die "doen," soos moenie rook nie, moenie drink en
bestuur nie, moenie te veel kinders maak nie, moenie te vinnig ry nie, moenie die
kat in die donker knyp nie, moenie die tuin verwaarloos nie, moenie die boer se
skaap steel nie, moenie dwelms gebruik nie, moenie tsjôtsjô vat nie, moenie jou
musiek so hard speel dat dit die bure pla nie.
Vir Julius Malema kan 'n mens sy eie lang lys opstel ...moenie praat voor jy dink
nie, moenie jou vinger in oom Jerry se oog druk nie, moenie so bang wees nie...
So in die kinderskoene van die nuwe jaar wil 'n mens egter positief wees, en
daarom is dit belangrik om goeie gewoontes aan te leer: maak meer tyd vir die
kinders, spaar die rookgeldjies en koop liewer kos vir die kinders en blomme vir
vroulief, en in plaas van om die tong skerp te maak, sê vir mense vir wie jy lief is
van hierdie toedrag van sake.
Jan Brand was reg, maar in daardie konteks nie heeltemal nie. Ons sê graag die
Here help hulle wat hulself help, maar soms is wat ons wil, en wat die Here wil
nie dieselfde nie. En Hy weet oneindig beter as ons.
Ons kan die beste bloudruk vir die nuwe jaar hê, maar nie almal wat vandag hier
lees, gaan aan die einde van die jaar nog op die ondermaanse wees nie.
Staan diep in die geloof. In 2010 en daarna.

Zuma se oproep op nasionale eenheid


Pres. Jacob Zuma se oproepe op nasionale eenheid, ‘n staking van negatiwiteit
en dat almal as ambassadeurs vir die land moet optree, maak in werklikheid deel
uit van ‘n stroom rubriekskrywers se oproepe met ‘n soortgelyke aanslag. Uit
selfs voorheen onwaarskynlike oorde het erkennings gekom dat die
Kemptonparkse onderhandelings gebrekkig was, maar die stertjie is bygelas dat
dit nou te ene male gebeur het en dat positiewe maniere gevind moet word om
daarby verby te beweeg.
In ‘n mutli-kulturele samelewing is oproepe op eenheid moeilik, wat ook beteken
dat meningsvormers van die gepolariseerde uiterste nader aan die middelgrond
moet beweeg.
Na die een kant kan ‘n oproepe op Afrikaners wat hulle op die een pool bevind
gedoen word om hul verwagtinge rondom staatkundige regte met Volkeregtelike
beginsels te harmoniseer, om hul burgerlike aksies soos Afriforum te ondersteun
en te versterk, en sodoende te bemagtig om die howe op te soek om die regte
wat in beginsel bestaan, af te dwing. Dr. Christo Landman het in ‘n onlangse
artikel ‘n interessante punt geopper deur voor te stel dat ‘n Afrikanerleierskap
opgelei word om toegerus te wees om leiding te neem.
‘n Belangrike funksie sou waarskynlik wees om deurlopend met die regering oor
verwagtinge en ander saakmakende aspekte te kommunikeer.
Die Christengemeenskap, wat stellig te midde van veelwywery, tradisionele
slagtings ter ere van voorvadergeeste en ander praktyke vervreemding ervaar,
sal waarskynlik soortgelyke behoeftes hê.
Die versoek kom nou van pres. Zuma, en dit sal dus goed wees om ‘n aantal
praktiese voorstelle aan die hand te doen om die klimaat hiervoor te bevorder:

33
- Omskep die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die
Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe in ‘n grondwetlike
kommissie soos wat dit bedoel en oorspronklik veronderstel is. Dit beteken dat
die wetgewing dienooreenkomstig herskryf moet word, die aanstellings daarmee
versoen word, en dit genoegsaam gefinansier en bemagtig word om sy werk te
doen.
- Verhoog die intervalle waartydens ministers en ander meningsvormers
plaasaanvalle veroordeel sodat die boodskap duidelik genoeg inslaan dat boere
nie vrybuit is nie.
- Verskans moedertaalonderrig genoegsaam om Afrikaanssprekendes
gerus te stel – ook tot op tersiêre vlak.
- Dring daarop aan dat die ANC-jeugliga ‘n fatsoenlike president kry. Die
destydse linkse uitroep, apartheid kan nie hervorm word nie, dit moet vernietig
word, word in die geestesoog opgeroep as aan Julius Malema gedink word. In
plaas van “vernietig” moet “afdanking” ingelees word.
- Staak die kader-ontplooiingsbeleid, en veral die hersirkulering van
comrades wat reeds vasgebrand het.
- Skaf “affirmative action” nou af. Dit is dik vir ‘ daalder om te verwag
iemand wat die slagoffer hiervan entoesiasties ‘n ambassadeur vir die land t
moet wees (hy is immers gediskwalifiseer om die aanstelling te kry weens sy
velkleur en geslag).
- Hou op om Mugabe met sagte handjies te hanteer, want dit skep die
wantroue dat sy optredes hier te lande as aanvaarbaar beskou word – eral as
meningsvormers gereeld met uitsprake kom soos dat Mugabe hier aangestel
moet word om die grondhervormingsprogram deur te voer.
- Verbied alle onteieningspraatjies wat nie met die grondwet en
internasionale verdrae waarvan Suid-Afrika mede-ondertenaars is, versoenbaar
is nie.
Die lysie kan baie langer word.
‘n Paar geleende gevleuelde woorde kan dalk as rigsnoer vir 2010 dien:
“Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ‘n realis nie.” (Dr. Anton Rupert)
“Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” Pres. Jan Brand.
Dit is reg dat die positiewe bruis en energiek is ...die realis wat ongeag die
realiteit waarop sy voete geanker is na die silwer randjie reik.
“..ons gaan met 'n vaste vertroue op 'n alsiende, regverdige en genadige God,
wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.” Piet
Retief in sy manifes.
Die versoeking is groot om tong in die kies met een van Langenhoven se dwars
aanhalings af te sluit, maar sy kritiek op die huisaltare wat by die agterdeur
uitgesmyt is en in die jaartse lê, en hom laat dink aan die verbasing oor liggame
van bloed en vlees wat nie sonder ‘n gees wil bestaan nie, is moontlik meer
gepas.
Die jaar 2010 het nie net een versoeningsdag, net een menseregtedag – wat
groepregte moet insluit - , een gesinsdag, een herdenkingsdag vir mense met
gestremdhede, 14 dae teen geweld teen vroue en kinders of een Christusfees
nie ... daar 365.

34
Deel 2 – Die wêreld in ‘n neutedop

Die Falklandeilande: Oliebron van alle kwaad


Britse olie-ekslorasie in die see by die Falklandeilande het Argentinië as
aanspraakmaker op dié eilande opnuut die harnas in. Dié keer het Argentinië ook
die steun van bykans alle Latyns-Amerikaanse lande, en die Argentynse pers
bespiegel dat die saak ‘n draai in die wêreldhof in Den Haag kan maak.
Volgens die Argentyne erken die VN die status van die eilande as “dispute
gebied” en daarom mag niks gedoen word om die status aan te tas alvorens die
saak bereg is nie. In wese kom dit daarop neer dat Argentinië meen die Britte
moenie toegelaat word om potensiële rykdomme in te palm, terwyl dit later kan
blyk dat dit eintlik Argentynse olie is nie.
Brittanje, weer, meen hul aanspraak op die eilande is bo dispuut verhewe.
Maar is die saak so eenvoudig? Het die Argentyne ‘n geldige aanspraak op die
Islas Malvinas soos die Argentyne hierna verwys.
Die ironie is dat die Argentynse naam van Franse herkoms is. Dit is afgelei van ‘n
agtervoegsel vir die Bretonse hawe Saint Malo, nadat die Franse in 1764 ‘n
kolonie aan die oostekant gestig het.
‘n Jaar later, onbewus van die Franse teenwoordigheid, het ‘n Britse
ondekkingsreiseger die gebied besoek en namens Brittanje daarop aanspraak
gemaak. In 1766 is ‘n Britse nedersetting by Port Egmont opgerig.
Ook in 1766 het die Spaanse en Britse vlote, wat beide gestuur is om
soewereiniteit oor die strategiese eilande oor te neem, byna aan mekaar
gespring. Die Franse het ingestem om ten gunste van Spanje die gebied te
verlaat, en kompensasie is aan die Franse betaal.
Die Britte het egter in Port Egmont aangebly tot hulle in 1776 die eiland tydelik
verlaat het, maar dit duidelik gemaak het dat hulle steeds aanspraak maak op die
gebied.
Spanje het die eilande tot 1811 vanuit Buenos Aires geregeer. Onder
Napoleontiese druk en die Suid-Amerikaanse onafhankliheidstryd het Spanje aan
die eilande onttrek, maar ook nie sy aanspraak laat vaar nie.
In 1820 is namens die Verenigde Provinsies van die Rio de la Plata (voorloper
van Argentinië) op die eilande aanspraak gemaak.
In 1833 ‘n Britse oorlogskip opgedaag en aangedring dat die Argentynse vlag
gestryk, en met die Britse vlag vervang word. Die Argentyne moes padgee omdat
hulle nie ter see teen die Britte opgewasse was nie. Brittanje het die eilande eers
in 1841 formeel gekoloniseer.
Nou, ongeveer 30 jaar nadat die Argentyne kortstondig die Islas Malvinas by die
Britte afgeneem en opnuut deur die Britse seemag verjaag is, is die vet weer
behoorlik in die vuur.
Die ironie is dat die Falklandeilande voor kontinentale drywing eerder deel van
die Afrika-kontinent uitgemaak het, en ongeveer teenoor Plettenbergbaai geleë
was.

35
Grondwetlikheid: Bate of euwel?
Terwyl die stryd in Suid-Afrika woed oor of die grondwet goed of sleg is, is dit
elders in die wêreld nie so ‘n uitgemaakte saak dat ‘n grondwetlike demokrasie
so ‘n goeie ding is nie.
In werklikheid staan die twee standpunte nie so ver uitmekaar nie. Selfs waar
grondwette in moderne demokrasieë beperk of afwesig is, speel konvensie ‘n
belangrike rol.
Die hoofargument teen die oppergesag van die grondwet is gewoonlik daarin
geleë dat dit die demokrasie beperk. Die Australiese CDP is byvoorbeeld bitter
gekant daarteen dat aangestelde regters uiteindelik ‘n groter sê oor wette vir die
mense het as die verkose politici. Talle voorbeelde waar die grondwet
Amerikaners in die steek gelaat het word dan geopper.
In Suid-Afrika sou die argument waarskynlik die teenoorgestelde wees, omdat
die grondwet darem (nog) ‘n vorm van verskansing teen die diktatuur van die
meerderheid bied. Dat juis hierdie beskerming nou vanuit linkse oorde in Suid-
Afrika gekritiseer word, is per se ‘n bewys van hoe belangrik dit is.
Daar is egter ‘n ander aspek wat eers belig moet word. Vanuit die liberale kaders
word die sekulêre grondwet van Suid-Afrika blindelings geloof. ‘n Argument
hiervoor is dikwels om te wys hoe ‘n sekulêre grondwet van Turkye – ‘n bykans
volslae Moslemland – ‘n westerse bondgenoot maak. Dat hierdie nie feitelik
korrek is nie (soos die kritiek vanuit Duitsland dikwels aandui) en ook ‘n rits
beginseldwalings behels, is kwalik die punt. ‘n Sekulêre grondwet kan swak
wees.
‘n Grondwet wat die Allerhoogste as hoogste gesag aandui, kan ewe-eens net
soveel of soms meer probleme oplewer. Die allerverskriklikste praktyke het onder
die vaandel van Christelike grondwette soos dié van Ierland plaasgevind. Om die
kritiek te probeer beperk tot grondwette wat God via die Rooms-Katolieke
geskiedenis van ‘n land neerslag gekry het, hou ook nie altyd water nie.
Die basiese feit is dat grondwette – waarby ‘n handves van menseregte dikwels
ingesluit is – mensgemaakte produkte is, en daarom feilbaar.Trouens, uit eng
geledere is die opneem van 'n handves van menseregte in 'n grondwet dikwels
teengestaan omdat hierdie kerklikes meen dat dit 'n manifestasie van
humanisme is, en dus God se rol erodeer. Voorstaanders wys weer daarop dat
hierdie menseregte juis 'n poging is om regte wat fundamenteel deur Christelike
waardes gevorm is, juridiese beskerming te bied.
Die mens maak ook dikwels van God as werktuig gebruik, soos om die eed af te
lê in regspraak, of om ‘n eed van getrouheid af te lê. Voortspruitend uit die eed
om die waarheid te getuig is daar selfs ‘n mensgemaakte sanksie, meineed.
Die gemak waarmee dit dikwels goedkoop gemaak word, of verbreek word, is ‘n
aanduiding van die mens se onvermoë om gelowigheid “af te dwing.”
Tog – die Christen sal wanneer hy die geleentheid tot inspraak by die vorming
van ‘n grondwet kry, outomaties en op ‘n eerlike wyse waardes wat hy as gesond
beskou in daardie grondwet neerslag te laat vind.
Hy sal waarskynlik ook graag God as hoogste gesag in die grondwet wil erken.
Dit kan hy alleen doen wanneer hy seker is hy kan eerlik en met oortuiging sê na

36
die beste van sy kennis weerspieël daardie grondwet die geopenbaarde Wil van
God. Die norme wat dit stel moet in pas wees met wat hy werklik eerlik glo.
Die vernaamste probleem met 'n grondwet wat nie God as hoogste gesag erken
nie, is dat dit die grondwet self as hoogste gesag stel. Omdat die mens feilbaar
is, so glo die Christen, volg dit noodwendig dat selfs die beste huanistiese
grondwet ook feilbaar sal wees.

Herrie se kerrie: Polisiehond


Deesdae, so lyk dit vir Herrie, is die term “polisiehond” ook nie meer heeltemal
wat dit was nie.
Langenhoven het in ‘n hekelgediggie al geskryf oor die polisiehond wat die
inbreker agtergenagesit het, en in sy gedagtes sien Herrie ‘n Duitse
Herdershond, of te wel, ‘n wolfhond, flink op die spoor.
Net nie “Alsatian” soos die Engelse dit verander het nie net omdat hulle met die
Duitsers in ‘n oorlog gewikkel was. So moeilik was die Engelse met die Duitsers,
dat die Huis van Hanover verengels is na “House of Windsor.” Selfs Queen
Victoria se huistaal was glo eintlik Duits.
Maar terug na die honde. Een aand by die polisieëringsforum-vergadering daag
die bekende taalkundige, Corlietha Swart, met haar hond Polka op. Sy het van
die vergadering vergeet, en eers onthou toe sy daar verbydraf. Daar is toe nie
ander genade nie, sy moet maar vra of die
hond kan saam vergadering hou, en Herrie
sê dis goed so, nou is Polka sommer ‘n
polisiehond ook.
Polka het na ‘n rukkie belangstelling
verloor, op sy sy gaan lê, en na ‘n ruk
stewige snorke weggepak. Presies net soos
die sersant in sy kantoor wat herrie laas oor
iets moes gaan spreek het.
Die polisie gebruik lank ook nie meer net
Duitse Herdershonde nie, en verskillende
soorte word vir verskillende funksies
ingespan, soos dwelms in tasse op lughawens uitsnuffel.
Tog, so lyk dit vir Herrie, is dit nie net die polisie wat van honde gebruik maak
nie. Misdadigers maak ook so soos dié foto van vriend Hennie bewys.

Pennsilvanië se hoofstad bankrot?


Harrisburg, die hoofstad van Pennsilvanië, is die jongste Amerikaanse stad wat
oorweeg om homself bankrot te laat verklaar. Maar, berig die Christian Science
Monitor, dit sal dalk nie al stad, of selfs deelstaat, wees wat hierdie opsie volg om
‘n blaaskans by krediteure te verkry nie.
Verskeie deelstate en stede trek noustrop danksy die hoë werkloosheidskoers,
met gevolglik minder inkomstebelasting, en ook minder koopkrag wat uit hierdie
bron inkomste kan bied. Boonop skaal die sentrale fiskus ook sy bydraes af.
Sou Harrisburg hierdie opsie volg, sal dit die eerste hoofstad van ‘n deelstaat
wes wat sedert die Tweede Wêreldoorlog bankrot verklaar word. Orange County

37
in Kalifornië is die grootste plaaslike owerheid wat nog bankrot verklaar is toe dié
roete in 1994 gevolg is. Verskeie kleineres het dit al tevore gedoen, en een selfs
al twee keer.
Al word hierdie soort bankrotskappe, die sg Chapter 9-bankrotskappe, soms as
uitweg gevolg, word dit nie aanbeveel nie. So ‘n bankrotskap benadeel ‘n stad of
deelstaat se kredietwaardigheid, en dan word gesukkel om geld vir
kapitaalprojekte soos watersuiweringswerke geleen te kry.
Verwerk uit die Christian Science Monitor

Nederland regeringloos. Wat nou?


(Sedert die artikel geskryf is het dit duidelik geword dat Nederland sou gou as
moontlik verkiesing gaan hou. Die oorgangskabinet is deur die koningin van
feitlik alle uitvoerende magte gestroop en moet vir elke belangrike saak die
goedkeuring van beide kamers van die parlement verkry.)
Saterdagoggend 20 Maart 2010 word Nederlanders waker sonder ‘n regering.
Middernagtelike gesprekke tussen die koalisievennote waar die kerse tot
stompies gebrand het, het uiteindelik dadels opgelewer.
Dit beteken die einde van die premier, Jan-Peter Balkenende se vierde kabinet
kort voor dié kabinet sy derde verjaarsdag sou vier.
Beide Balkenende se Christen-Demokratiese Appèl en die kleiner ChristenUnie
van vise-premier André Rouvoet is teleurgesteld dat die haakplek met die Partij
van de Arbeid (PvdA) nie uitgepluis kon word nie. Die CU het bykans dadelik ‘n
spesiale nuusbrief uitgestuur om sy “verdrietigheid en beskaamdheid” uit te
spreek.
‘n Rukkie later, met koerante wat straat toe gaan, was die moue reeds opgerol.
Rouvoet het reeds aangedui dat sy party gereedmaak vir ‘n verkiesing – en dit is
met groot entoesiasme deur Geert Wilders, die Nederlanders se wildeman van
die politiek verwelkom. Sy party doen in peilings besonder goed, en het selfs al ‘n
slag as tweede gewildste party uit ‘n peiling getree.
Balkenende, lui die berigte bloot, is onderweg na die Koningin.
Wat gewoonlik gebeur is dat die vors ‘n “rapporteur” aanwys wat met verskillende
partye beraadslaag om ‘n koalisie te probeer vorm. Wanneer dit blyk dat
potensiële koalisievennote gevind is, begin samesprekings wat Kodesa na ‘n
teeparty laat lyk, met lywige beleidsdokumente wat die koalisie moet rig. In die
proses kan die kiesers ten opsigte van sekere beleidsrigtings dadels sien van dit
waarvoor hulle gestem het. Terwyl beide die CDA maar veral die CU erg gekant
is teen aborsie op aanvraag, het dit nie deel van die koalisiebeleidsokumentasie
uitgemaak nie omdat almal by voorbaat geweet het die PvdA sou hierteen
vasskop.
Die Nederlandse koerante gaan egter baie yl om met bespiegelings van wat nou
voor die deur lê. Dit is ‘n vroeë waarskuwing aan buitelanders om nie te probeer
bespiegel nie, omdat, soos die Nederlandse pers dit stel, die Nederlandse
politiek vir buitestanders hopeloos te skisofrenies voorkom om intelligente
raaiskote te kan waag.
Dit sal vir buitestanders byvoorbeeld moeilik wees om te verstaan hoe dit
moontlik kan wees dat die ChristenUnie en die PvdA voor hulle in die regerende

38
koalisie opgeneem is, dikwels nouer onderling saamgewerk het, as wat die CU
byvoorbeeld met die CDA saamgewerk het. ‘n Goeie voorbeeld was ‘n projek om
Walletjies “op te ruim.” (Dit behels die opspoor van die prostitute en vasstel wie
in effek ontvoer is, opleiding tot alternatiewe te bied, en repatriasie vir diegene
wat na hul lande van herkoms wou terugkeer).
Wat handelsondae betref, sal die CU en die CDA egter weer dikwels in ‘n
populariteitskompetisie betrokke wees om te kyk hoe min hiervan gewettig sal
word.
Van buite geoordeel, lyk dit tog of die CDA en die CU se drie jaar saamtrek in ‘n
koalisie nouer bande opgelewer het. Die sterk werksetiek van die CU is stellig ‘n
bate, maar dit is ook so dat die CDA figure soos Marja van Bijsterveldt oplewer
wat in aanslag en houding baie nader aan die CU lê as haar eie party. Dit is
egter ook so dat sekere verwikkelinge die afgelope aantal jare Balkennde van ‘n
effektiewe swye oor godsdienssake, veel meer verbaal hieroor laat word het –
aanvanklik by jeugsaamtrekke, maar later ook elders, tot hy as hoofspreker by
die amptelike Calvyn-500 herdekingsbyeenkoms as vurige Calvinis ontpop het
wat van kindsbeen af aan die inhoud van talle Calvyn-boeke in sy ouerhuis
blootgestel is.
Boonop het nog konserwatiewer Christen / Gereformeerde partytjies onlangs ook
langlippie teenoor die CU begin trek, wat die hande losser maak om nouer met
die CDA saam te werk.
Op die oog af, maar op die gevaar af om die Nederlandse politiek se “skisofrenie”
gruwelik mis te tas, lyk dit of ‘n nuwe Kabinet – met of sonder ‘n verkiesing –
steeds die CDA en die CU sal insluit. Hoe die res daaruit sal sien, sal
waarskynlik afhang of daar ‘n verkiesing gaan wees of nie. Na ‘n verkiesing kan
die onwaarskynlike moontlik onvermydelik wees – Geert Wilders in die kabinet,
en heel waarskynlik as ‘n vise-premier.
Vir lande soos Turkye en Marokko sal dit wees soos Duitsland se verkiesing van
Hitler deur die Jode ervaar is. Maar dalk – dalk het Wilders soos sy land se
politiek genoeg dualisme in hom om as regeerder ook ‘n makker sy te openbaar.
Dalk, net dalk, meen die PvdA dat hy saam met die Sosialiste en ander linkse
partye – party vreemder as die werklikheid – genoeg steun bymekaar kan hark
om ‘n linkse regering te vorm.
Maar dan sal Nederland erg uit pas met sy bure wees.

Skynheilige reaksie op staatsgreep in Niger – Is ‘n staatsgreep om


demokrasie te herstel slegter as ‘n statutêre staatsgreep?
Pres. Jacob Zuma het die staatsgreep in Niger gekritiseer omdat die Afrika-Unie
die “ongrondwetlike oordrag van mag” veroordeel.
Hiermee is op die oog af nie fout te vinde nie. Die probleem is egter dat die
president wat nou uit die kussings gelig is, self sy twee termyne as president
uitgedien het waarvoor die grondwet voorsiening maak, en toe die grondwet en
parlement opgeskort het om nog langer aan bewind te bly, en toe die land se
grondwethof sy optrede as ongrondwetlik afmaak, sommer die grondwethof
ontbind ook.

39
In enige taal het die president dus ‘n statutêre staatsgreep uitgevoer om aan
bewind te bly. Daar is selfs sanksies teen sy land ingestel.
Hierteenoor maak die mense aan die spits van die jongste staatsgreep daarop
aanspraak dat hulle sou gou as wat moontlik is, die land se demokrasie wil
herstel.
Hoekom is die jongste staatsgreep verkeerd, maar nie dié vorige wat die
president self uitgevoer het nie? Omdat, soos Zuma dit stel, dit in die tweede
geval met die verwisseling van mag gepaard gegaan het?
Dié vraag is veral relevant nadat pres. Jacob Zuma self die afgelope week in die
pers en elders daarvan beskuldig is dat hy sy middelvinger vir die grondwet wys.
Om die grondwet nie te eerbiedig nie, is ‘n vorm van ‘n statutêre staatsgreep, en
die opskorting van die grondwet is die volledige voltrekking daarvan.
Dit is verstaanbaar dat Afrikalande baie senuagtig oor staatsgrepe is. Ook omdat
Westerse lande nou hul hulppakette koppel aan die mate van demokrasie wat in
‘n land geld.
As Afrika egter regtig ‘n demokratiese kultuur wil vestig, moet dit net so heftig
optree wanneer lande se regeerders hul grondwette skend of opskort.
Wat dit betref is dit nodig dat die kiesers fyn oplet dat die grondwet hier te lande
nie deur die regering ondermyn word nie. Op ‘n dag kan dit blyk dat Suid-Afrika
sy grondwet in effek kwyt is deur wat in Engels ‘n “coup by stealth” genoem
word. Selektiewe aanstellings op die regbank en die erodering van
gemeenskapsregte ter wille van die tirannie van die meerderheid is vroeë
waarskuwingstekens.
Om demokrasie in Niger te herstel is nie so maklik nie. Die Toaregs, waarskynlik
die sterkste oorblywende Berbervolk, is al verskeie jare in verskeie Afrikalande
soos Niger en Mali in wisselende vlakke van opstand. Hoe meer minerale
rykdomme onder die woestyn ontdek word, hoe opstandiger word die Toaregs
wat dikwels hiervan uitgesluit word. Terwyl die staatsgreepvoerders ‘n herstel na
demokrasie in die vooruitsig stel, kan hulle dit net sowel op ‘n wyse doen wat die
heterogeniteit van die land behoorlik en regverdig ondervang.

Blik Oor: Dianne se gekruide parlementêre taal


Dat politici nie op hul monde geval is nie, is nie ‘n geheim nie.
Trouens, die Britse lords het gemeen hulle is sulke ysters as kommunikators dat
hulle nie nodig het om kundiges met verkiesingsveldtogte te gebruik nie. Toe
doen Margaret Thatcher se Tories dit, en uit die amperse bloute verskyn die
ystervrou op die toneel.
Nou het die DA se Dianne Kohler-Barnard in dingetjie in die parlement
kwytgeraak wat haar vyf dae se skorsing deur haar eie party op die lyf laat loop
het, en sy moet nog die parlement vir dié geturksvyde woorde om verskoning vra
ook.
Oud-Minister Hendrik Schoeman, indertyd Minister van landbou, is volgens
oorlewering een nag wakkergebel deur ‘n boer wat kla oor die mieliepryse of iets.
Volgens hierdie oorlewering het Hendrik vir die boer in geen onduidelike taal nie
laat verstaan hy moet gaan &*&.
Dis reg, dis hoe my minister met my moet praat.”

40
Alles volgens oorlewering.
Beloftes maak het ministers ook al reputasies en byname besorg, soos Piet
Promises. Maar, so lyk dit ook, is Piet se “rekord” soos wyle Hendrik s’n, lankal
verpletter. As hedendaagse “promises” nie donkievye geblyk te gewees het nie,
smaak dit my sou daar nie meer ‘n arm mense in Afrika gewees het nie, en sou
die strate en paaie al ‘n goudlagie gehad het. Nou het die paaie ‘n skrootlagie
soos goed deur die slaggate uit die rygoed uitgeruk word.
Politici wat groen blaartjies opsoek, is ook nie iets heeltemal nuuts nie. Maar ook
hier, meen ek, is alle rekords ook nou al herskryf.
Iemand wat natuurlik vir Dianne lesse sou kon gee oor parlementêre kwinkslae,
was Neelsie Langenhoven. Maar ek het net ‘n spesmaas as iemand vandag iets
sou herhaal wat Langenhoven volgens oorlewering kwytgeraak het, naamlik daai
een dat die helfte van die lede ‘n klomp ape is, sal die poppe veel erger dans as
destyds.
Volgens oorlewering het Langenhoven daarmee weggekom toe hy die
beswaarde agbare lede in sy terugtrekking verseker het die helfte van die lede is
nié ‘n spul ape nie.
Trouens, ‘n hele rits opmerkings, selfs onskuldig bedoel, sal waarskynlik veel
meer as vyf skorsingsdae en ‘n terugtrekking tot gevolg hê. Om so ‘n paar te
noem: “Dit lyk of Kaapstad se dieretuin verhuis het.” Of: “Die sirkus is in die
stad.”
‘n Opmerking soos: “Die ooievaar sit op die dak,” kan dalk ook groot teenspoed
beteken.
So fyngevoelig is die mense in die praathuis nou dat gebaretaal onverwags
teenspoed gekry het. ‘n ANC-lid het glo vir Zuma se prosessie op pad parlement
toe gewuif, maar is gearresteer en van crimen injuria aangekla oor dié vingertaal.
Hy het na bewering net met sy middelvinger gewaai.
Ja-nee, dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek bedoel, nie lank gelede nie
het Johnny de Lange nog ‘n gedoktorde NNP-lid binne die parlement so hard
gemoker dat die agbare lid op sy agbare agterent beland het. So hard, hy is
heeltemal binne-in die ANC ingemoker is.
Ek meen, dié insident sal nou seker maak dat Dianne nou ook ‘n vurige
kampvegter vir Afrikaans word. Het sy maar, soos ‘n bekende Afrikaanse
tennisspeler vir die skeidsregter in Afrikaans gesê het is ‘n &8&huis, haar ding in
Afrikaans gedoen, het sy weggekom daarmee.
Hoewel, ek dink daai spesifieke woorde sou die agbare verontregde lid ook
verstaan het al was dit in Afrikaans gebesig.
Maar niemand sal stry nie. Dainne het as kommunikator soos min ontpop. Net
twee woorde en sy het meer aandag op haar gevestig en is ernstiger opgeneem
as ‘n prez met twee spietse.

41
Looi Amerikaners Obama omdat hy “smart” is?
“Dit is tyd om Obama en die Demokrate se mislukte progressiewe eksperiment
van die afgelope jaar te beëindig.”
Dat hierdie stelling deur ‘n Republikeinse senator in die deelstaat Montana
gemaak is, is nie nuuswaardig nie. Wat nuuswaardig is, is dat die Republikeine
by die dié kongres ‘n rekordgetal deelnemers getrek het, aldus die Montana
Standard.
Nog interessanter is dat dié koerant in dieselfde uitgawe ‘n artikel van ‘n swart
rubriekskrywer van die Miami Herald, Leonard Pitts Jnr, dra. Dit is die opskrif van
sy rubriek wat die oë laat rek: Palin should run for president.
Sen. Denney Rehberg sê hy sien nie net rekordskares by partykongresse nie,
maar ook openbare vergaderings in stadsale.
Nogtans gee Rehberg toe dat Obama, meningspeilings tot die teendeel ten spyt,
as persoon gewild bly en dat mense graag wil sien dat hy suksesvol sal wees.
Dis egter Obama se beleidsrigtings wat in die stof byt, aldus Rehberg.
“Ons het beleid nodig, nie politiek nie,” sê Rehberg.
Die Republikeine wat in dié artikel aangehaal word, rep nie ‘n woord oor die rol
wat die “tea party”-beweging speel om gewildheid in konserwatiewer waardes en
dus die GOP (Grand Old Party, oftewel Republikeine) te stimuleer nie.
Hierteenoor noem Pitts dit wel.
Sy idee dat Sahrah Palin as kandidaat van die GOP, en die vaandeldraer van die
tea party, aan die volgende presidentsverkiesing deel moet neem, is om die
Amerikaners eens vir altyd te dwing om te besluit watter soort Amerikaners hulle
wil wees.
Pitts stel dit ter aanvang dat hy nie sy wens daarop baseer die keuse vir Palin in
effek ‘n vrypas aan Obama vir herverkiesing sal sorg nie. Veel meer sal dit
Amerikaners dwing om keuses tussen hipokrisie en integriteit, en tussen
onnoselheid en ingeligtheid te maak.
Dit is ook net hier waar Pitts se versuikerde woorde vir Palin uitloop. Hy trek
verwoed los onder die kritiek wat sy op Obama loslaat, en beskuldig haar van
soortgelyke optrede. Hy beskuldig haar daarvan dat sy Obama oor sekere sake
kritiseer, maar dan nie in staat is om voorbeelde te noem van wanneer Obama
hom daaraan skuldig gemaak het nie.
Die “tea party”-beweging word as ‘n “so-called’ afgemaak, maar verswyg dat ‘n
gesaghebbende peiling bevind het dié beweging, wat maar aan die einde van
verlede jaar tot stand gekom het, reeds meer steun as die demokrate trek. Hy
probeer nietemin ‘n wig tussen haar en die tea party indryf deur te beweer sy
verteenwoordig nie konserwatisme nie, maar die laaste bastion van aniti-
intellektualisme wat periodiek in die Amerikaanse karaktereienskappe opduik. Hy
skryf dit aan ‘n opvatting onder Amerikaners toe dat iemand wat “smart” is net nie
te vertrou is nie. Hy glo kennelik dat Obama die “smart” een is.
Dit is duidelik dat hy meen Palin se gebreke bied aan Obama die beste opsie om
polities te oorleef.

42
Volstruispolitiek oor rassisme in Nederland
Terwyl die Nederlandse owerheid steeds gereeld ontken dat sekere insidente 'n
rassistiese ondertoon het, kom rassistiese geweld, vernielsug en bedrygings al
dekades lank gereeld in die land voor.
Hierdie stellings kom uit die pas verskene boek, Al Eeuwenlang een gastvrij
volk - Racistisch geweld en overheidsreacties in Nederland (1950-2009)
deur die politieke ontleder, Rob Witte.
Die eerste deel van sy boek se titel verwys na 'n opmerking twee jaar gelede
deur minister Rita Verdonk toe sy gesê het die Nederlanders is al eeue lank 'n
gasvrye volk. Witte gebruik hierdie opmerking as parodiese vertrekpunt tot die
skets van die werklikheid, naamlik 'n volk wat al dekades lank dikwels baie
rassisties teenoor aankomelinge optree. Hy meen dit het veral sedert die Tweede
Wêreldoorlog struktureel voorgekom. Oor die jare het die teikengroepe verander,
die optrede nie. Eers was dit Spaanse en Italiaanse gasarbeiders wat dit hotagter
gekry het, later Marokkaanse en Turkse gasarbeiders, en nou is Moslems in die
algemeen in die visier.
Dit is juis die volstruispolitiek hieroor wat daartoe lei dat plaaslike owerhede, wat
amptelik van g'n sout af water geweet het nie, met hul broeke op die knieë
gevang word wanneer geweld oorkook. - Trouw

No bioscope Wonderland for Alice


Latest movie version of Disney's Alice in Wonderland may never reach most
bioscopes. Bioscope companies all over the globe, especially in Europe, are up
in arms in reaction to the producers' decision to start distributing the DVD version
in June, only three months after the movie is destined to hit the big screen.
Bioscope companies believe this is to short a period to enable them to make
money.

Vanjaar 5 biljoen mobiele foongebruikers – VN


Die VN se Internasionale Telekommunikasie-Unie berig dat die wêreld vanjaar sy
5 biljoenste selfoonsubskripsie-intekenaar gaan oplewer. Dit volg na 'n skerp
toename in gebruik van Smart Phones in die ontwikkelde wêreld en mobiele
telefone in die ontwikkelende wêreld. Die aantal mobiele breëband-intekenare
gaan vanjaar ook die een biljoenkerf verbysteek. AFP

Terroriste Doer Onder sit lank


Vyf radikale Moslems – vier van Libanese herkoms en een van Bangladesj, het
tronkstraf van tussen 23 en 28 jaar op die lyf geloop.
Die vyf het terreurplanne gesmee uit protes teen Australië se deelname aan die
oorloë in Irak en Afganistan. Hulle is reeds in Oktober verlede jaar skuldig

43
bevind. Hulle is met vuurwapens en chemikalieë vir die aak van plofstof betrap,
en wou in 2006 ‘n terreurdaad “met ‘n onbekende doel” pleeg.
Die een wat die minste tronkstraf opgelê is sal oor 17 jaar en drie maande onder
baie streng voorwaardes uit die tronk kan kom. - Trouw

Nuuskommentaar: Gemeenskapspolitiek
Die meeste Suid-Afrikaners was verstom oor die min aandag wat pres. Jacob
Zuma in sy staatsrede aan verskeie sake, waaronder misdaad, geskenk het. Dit
het ‘n dawerende swye oor die etlike plaasmoorde vanjaar ingesluit, en het
gekom te midde van verskeie moorde en ander aanvalle in sekuriteitskomplekse.
Die opposisiepartye gaan na verwagting op hierdie leemte en ander leemtes in
hul reaksie op die staatsrede klem lê.
Die publiek was tradisioneel egter grootliks uitgesluit van hierdie proses.
Nou voeg Solidariteit ‘n element by wat druk op die regering behoort te verhoog –
‘n blitsvinnige aksie om so veel as moontlik briewe van protes oor die misdaad by
die president te kry, met afskrifte wat in possakke môre by die parlement
afgelewer word voor Zuma sy repliek lewer.
Moderne kommunikasietegnologie, soos die internet en selfone, maak hierdie
projek moontlik.
Soortgelyke projekte is in die verlede op die proef gestel toe pres. Thabo Mbeki
nog die septer geswaai het.
Dit is egter nie net die regering wat homself blootstel as teiken van
gemeenskapspolitiek nie. Toenemend begeef die privaat sektor ook die terrein
van die rug keer op die publiek wat sy lewensbloed is. Die jongste voorbeeld is
die SA Skeidsregtersereniging wat nie meer die rugbyreëlboek in Afrikaans
beskikbaar stel nie omdat daar kwansuis nie ‘n behoefte voor is nie. Afriforum
spring weer hier in.
Gemeenskapspolitiek is ‘n politiek-sosiologiese verskynsel wat dikwels die
manifestasie van gebrekkige gemeenskap- of minderheidsregte in ‘n grondwet
vergestalt. Suid-Afrika het juis ‘n fase agter die blad waar Suid-Afrikaners,
ongeag politieke oriëntasie, breedweg konsensus bereik het dat die grondwet
minstens gebreke het. Aan die hele politieke spektrum ervaar mense ‘n mate van
magteloosheid om deur konvensionele politieke deelname, soos stemreg, daarop
te reageer.
In ‘n artikel in gister se Rapport is prof. Koos Malan van Tuks selfs krities oor die
werkbaarheid van die wigte en teenwigte in die grondwet, en meen dit kan
iemand platsak laat sonder dat hy veel vermag het. Hy meen die grondwet is
ryklik besaai met regte, maar gaan mank aan gesag om iets daaraan te doen.
Die huidige verwikkelinge in Suid-Afrika is ‘n teksboek-verloop van leemtes wat
politieke sosioloë se vakgebied uitmaak. In die boek, Temas in die politieke
sosiologie van André Pelser en Lucius Botes word dit in ontstellende detail
onder die loep geneem. Die interessantheid egter, is dat hierdie boek in 1992
verskyn het. Dit kan dus nie van politieke vooroordeel jeens die huidige bedeling
beskuldig word nie.
Die grondwetlike proses het sedertdien afgeloop, en die grondwet is die produk
van ‘n feitlik uitsluitlike juridiese benadering. Die indruk word geskep dat insette

44
van politieke sosioloë, politieke geograwe en selfs politieke wetenskaplikes nie
oorweeg is nie, en in elk geval nie in die finalisering opgeneem is nie.
Die gevolg was egter nie dat realiteite uit hierdie vakgebiede verdwyn het nie. Dit
leef steeds, en die druk in die drukkoker word groter.
Terwyl daar groot konsensus is – van Tim du Plessis tot Max du Preez tot prof.
Koos Malan dat veranderings nodig is, is daar minder konsensus oor hoe verder
beweeg moet word. Sommiges is selfs blatant eerlik en sê hulle weet nie.
‘n Uiteinde, volgens die politieke sosiologie, is politieke geweld.
Gemeenskapspolitiek bied moontlik die mees werkbare alternatief. Om suksesvol
te kan wees in wye deelname egter nodig. Dit het vaardigheid nodig, en dit is tyd
dat politieke sosioloë hul stem duidelik laat hoor.
Dis ‘n deurmekaarspul met plaasskole in die Vrystaat, en dit lyk nie vir Herrie
iemand weet mooi nie. By die plaasskool by oom Wimmie het die amptenary oor
die vakansie ‘n brief kom wys die skool gaan sluit, en die werker moes inderhaas
plan maak met hul kinders.
Toe daag die “tietsjas” in elk geval op maar nie die kinders nie. Want die skool is
mos gesluit. Herrie weet al ‘n paar jaar lank die Vrystaatse provinsiale regering
wil die plaasskole sluit en met ‘n koshuisstelsel vervang. Herrie geen nou reeds
‘n brief: Nie binne ‘n honderd jaar nie.
Maar Herrie is nie baie verbaas dat die goewerment plan probeer maak nie, want
bykans tagtig persent van die Vrystaat se ongeveer 2 000 skole is plaasskole, en
die grootste gros van hulle is weer eenman, of “one tiechah”-skole. Dis ‘n reuse
uitrol om op dié manier skole binne trefafstand van die plaaswerkers se kinders
te kry, en selfs soos dit is, moet baie van hierdie kinders steeds lang afstande
aflê. Plejk-plek is busvervoer tot die geld opraak, en plek-plek is fietse uitgedeel
tot hulle gebreek of gesteel is.
Tot op ‘n dag, dan moet hulle groot skool toe om ‘n matriek te gaan probeer
verwerf, en hier lol dit weer.
Privaat loseer het nog op ‘n manier gewerk toe boere ‘n groot del van hul
werkers se lone in natura betaal het, d.w.s. meel, melk, vleis en weidingsregte vir
beeste, en vele meer. Van die rantsoene is na familie in die dorpe en stede waar
die kinders geloseer het. Van die beeste op plase was eintlik die familie se
beeste. Stedelinge se beeste, het dr. Andries Lategan (intussen saliger) van die
Stedelike Stigting al jare gelede bevind, loop op plase in ‘n radius van tot 300
kilometer om die stad of dorp). Maar toe kom minimum kontantlone, en skielik is
dit wat die plaaswerkers vir hul familie in die dorp kon bied, veel minder.
Maar selfs voorheen was sommige van die plaaswerkerskinders by hul stedelike
verblyf gruwelik uitgebuit, en moes soos slawe werk, en soms selfs
prostitusiewerk doen.
En heelwat van hierdie kinders het dit gemaak, en sit nou in die Wetgewer of in
hoë poste. Nie almal se herinneringe is nostalgies van aard nie.
Herrie dink darem nie oom Neelsie is reg wat meen die hele ding is deel van ‘n
meesterlike matriek-strategie nie. Oom Neelsie reken die regering het nou al
alles geprobeer om die matriek-slaagsyfer beter te kry, soos om die
slaagvereistes minder te maak, en die standaarde te verlaag. Nou is die regering

45
uit alle opsies behalwe om te keer dat leerlinge tot in Matriek vorder. Is daar
niemand in matriek nie, dan druip niemand immers nie.
Dis ‘n taai toffie. Baie van die ouer Afrikaners is ook met gelapte broek, griffies
en leie, plaasbrood met vet gesmeer en meester se lat deur plaasskole. Van die
slimmes het sommer al kleintyd meer by die oues opgelet en standerds gespring.
Oom Blackie Swart het so jonk in Matriek beland, hy moes eers ‘n jaar of wat
uitsit voor hy oud genoeg was om universiteit toe te gaan. Wyle Heine Toerien
het op 19 al ‘n meestersgraad in Grieks gehad, maar dis ‘n verhaal op sy eie.
Plaasskole, dit weet Herrie, vereis baie groot toewyding van kind en onderwyser.
Baie groot. Maar as die vrugte van sukses gepluk word is dit baie soet.

Repliek: George Claassen se lesing by Tuks


“In die begin het God die mens geskape, en sedertdien probeer die mens God te
skape.”
Dié ou waarheid tref my vanoggend weer toe ek George Claassen se onlangse
lesing by Tuks lees.
Glo my, ek verstaan die seergemaakte gees. As oudste seun van ‘n Deïstiese
evolusionis moes ek as kind dikwels onder die tonge van klasmaats en
onderwysers deurloop wat spot oor ons ape is.
My pa, doktorsgraad in paleontologie en later ook een in embriologie,
medewenner van die Akademie se Havengaprys vir Biologie, maar ook
ouderling, entoesiastiese kerkkoorlid, lief vir Boekevat.
Selfs as nuutjie Admissiesudent op Kovsies het ek nie geweet wat nog wag nie.
Sommer gou het die proffie in Hebreeus die pad op hierdie terrein gelyk
gemaak...vir God is een dag soos ‘n duisend jaar, en ‘n duisend jaar soos een
dag.
Op die een of ander manier het dit gebeur dat ek omtrent 50 jaar oud geword het
voor ek die eerste keer werklik kennis geneem het van die jong aarde
kreasioniste. Oornag is ek deur iets wat ek nie geweet het bestaan nie
teruggeslinger na “julle is ape,” ou wonde is oopgeruk, groot emosionele stres is
ervaar.
Geleidelik het dit weer na my deur gesuurdeeg: Die mens probeer steeds God
skape.
Die mens geneig om sy Godsbegrip te reduseer tot iets wat binne sy
begripvermoë (“confidence range”). Die primitiewe mense het die maan en
sterre, of die son aanbid. Sommige godsdienste het menslike offers vereis, sodat
selfs Hernan Cortez en sy geharde manne vanuit ‘n paleisvenster met afsku
vervul is soos een van die Asteekse piramides rooi verkleur het met die bloed
van menslike offerandes.
Selfs die Christelike godsdiens het sy kwota wreedhede opgelewer soos die
Inkwisisie, en sy kwota godskepping soos met die pouslike tug teen Galileo
Gallilei.
En toe kom Darwin. Eintlik was Darwin nie nuut en oorspronklik nie, en sy
aandeel tot die vorming van die evolusieleer is grootliks ‘n verskynsel van die
Engelse wêreld. Die Franse wêreld het hul eie min of meer eweknieë, sommiges

46
wat voor Darwin hul teorieë geformuleer het. Mense met ook ‘n sterker
wetenskaplike agtergrond as Darwin, wat eintlik ‘n opgeleide teoloog was.
Toe begin ‘n wêreld ontwikkel waar daar ‘n groep mense was wat in die lig van
die Bybel se skeppingsverhale niks van evolusie wou weet nie, ‘n groep wat
evolusie as suiwer wetenskaplike benadering aanhang, en die middelgrond van
Deïstiese Christene. Paleontoloë en argeoloë kon min of meer ongestoord hul
ding doen en publikasies uitbring waarin geskryf word oor soogdieragtige reptiele
van 250 miljoen jaar gelede waarvan fossielreste gevind is, van klipwerktuie van
twee miljoen jaar oud wat gevind is, sonder om as ateïste (ape) uitgeskel te
word.
‘n Vertolking oor godsdiensvryheid in ‘n handves van menseregte wat, eenvoudig
gestel, daarop neerkom dat die beoefening van ‘n godsdiens ateïste aanstoot
sou gee, het daartoe gelei dat godsdiens in staatsomgewings baie na aan
“verbied” is. Die VSA is ‘n tipiese voorbeeld.
Onder sulke omstandighede gebeur ‘n paar dinge bykans noodwendig. Een is
dat fundamentaliste nie daarmee vrede sal maak nie, en aanhou verbaal daaroor
sal wees, en later die beeld skep dat hulle namens Christene in die algemeen
handel.
In Duitsland, waar godsdiensonderrig in staatskole verpligtend is (maar nie die
neem daarvan nie) het hierdie verskynsel nie so merkbaar neerslag gevind nie.
In die VSA het die fundamentalistiese beweging, wat laat in die 20ste eeu ‘n
sterk herlewing beleef het, sterk genoeg geword om die “uitvoermark” te betree.
‘n Deel van die “pakket” is die jong aarde kreasionisme wat ook, met jong aarde
kreasioniste-evangeliste, op eie bene staan.
Jong aarde kreasionisme sou waarskynlik nooit so ‘n probleem geword het, het
dit as godsdiensoortuiging by ‘n geloofsaak gebly – die domein van die
godsdiens - nie. Dit het egter ‘n kwasie-wetenskap ontwikkel waar na bewyse
gesoek is dat die aarde slegs sesduisend jaar oud is (met variasies wat strek tot
11 000. (Die 6 000 historiese jare plus 7 dae van 1 000 jaar elk). Slegs ‘n
oppervlakkige kennis van die Bybel is nodig om te weet die 1 000 word bykans
deurgaans simbolies in die Bybel gebruik, en was die simboliese uitdrukking van
volmaaktheid of die ewigheid, afhangende van die konteks.
Om dit letterlik te gebruik lewer vreemde resultate, soos dat Moses met twee
miljoen Israeliete deur die woestyn getrek het (wat sou beteken die agterstes sou
nog in Egipte wees toe die voorstes die Beloofde Land ingetrek het), dat God
mooi sommetjies moes maak wie Hy kon straf afhangende van of die persoon vir
die “derde geslag” kwalifiseer, of die “duisendste geslag”, gehuggies met skaars
400 inwoners wat met die banvloek getref is sou mense moes invoer om deel
van die tienduisende te wees wat doodgeslaan is, Metusalag en tydgenote sou
werklik amper ‘n duisend jaar oud moes geword het in plaas van die simboliese
berekening van “dae verleng word” afhangend van hoe goed hulle geleef het,
met 1 000 die ewigheidskonsep.
Die jong aarde kreasioniste se kwasi-wetenskap lewer probleme op. Daar is
mense wat daarvoor val, en dan in briewe aan koerante hul eie name met planke
slaan. Onlangs, toe ek navorsing gedoen het oor die verwantskap tussen die
skerp toename in outisme en die verminderde magnetiese veld van die aarde,

47
moes ek tot my skok ontdek dat die jong aarde kreasioniste hulle ook op die
terrein van die aarde se magnetisme begeef, en bestaande konsepte “verkeerd
bewys.”
Op die oog af lyk dit of die middelgrond in die proses van polarisasie wegval.
Dit herinner aan die studenteraadsverkiesings by bv Kovsies en Tukkies wat in ‘n
stryd tussen die ANC (Jeug + Sasco) en die VF+ ontwikkel waar selfs die DA nie
hond haaraf maak nie.
Dat die “intelligent design” in die slag gebly het, is nie vreemd nie. Soos ek
verstaan is “intelligent design” ontwerp om te keer dat die hantering van die
evolusieleer op skool ateïsties ontwikkel, maar terselfdertyd binne die raamwerk
van “geen godsdiens” te probeer bly. “Intelligent design” het later skynbaar eie
bene gekry.
Gewone kreasionisme het vanuit die geledere van die jong aarde kreasioniste
skynbaar onder net soveel druk gekom as die Deïstiese evolusieleer. Vandag, so
lyk dit, is dit redelik veilig om te aanvaar daar word na jong aarde kreasionisme
verwys as na kreasionisme verwys word.
Bykans die enigste verklaring oor hoekom jong aarde kreasionisme ten koste van
gewone kreasionisme kon vorder is dat die kwasi-wetenskaplikes beduidend baie
mense tot hierdie “alternatiewe wetenskap” “bekeer.”
Onlangs lees ek in Trouw dat stadsvaders van die Nederlandse ChristenUnie
beswaard is omdat hul gemeenskapsmuseums, wat hul eie omgewings se
geskiedenis moet uitbeeld, onder andere na duine van miljoene jaar oud verwys,
omdat dit nie met hul opvatting van ‘n veel jonger aarde strook nie.
Of dit werklik die standpunt van die ChristenUnie is, en of dit die opvattings van
die individue is, weet ek nie.
Die eerste wat ek werklik van die bestaan van die jong aarde kreasioniste bewus
geword het, was toe ‘n brief in Volksblad verskyn waarin ‘n uitstalling van
dinosourusbene by Golden Gate gekritiseer word omdat “beweer” word dit is
miljoene jare oud. “En soos almal weet,” skryf sy, “glo Christene dat die aarde
sesduisend jaar oud is.”
Ek was destyds provinsiale navorser en mediaman van die ACDP in die Vrystaat,
en die vrou ‘n bekende lid van die party. Ek het terstond ‘n brief aan Volksblad
geskryf om te verduidelik dat Christene dit nie “weet” nie, en die standpunt gestel
soos ek in Admissie geleer het. My brief is nie geplaas nie, en ek het ‘n onrustige
gevoel begin kry die vrou verteenwoordig bietjie meer as net haarself.
Binne partyverband het dit toe ook ‘n ding afgegee. ‘n “Bekende” jong aarde
“wetenskaplike” was op pad na Suid-Afrika en sou onder meer Bloemfontein
aandoen. Hy is vir belastingbedrog gevang, en iemand anders het in sy plek
gekom. Die vrou het eenvoudig aanvaar die party gaan as sy gasheer optree, en
ek het vasgeskop. Uiteindelik het die party, in die Vrystaat in elk geval, nie as
gasheer opgetree nie hoewel lede wel verblyf en ander reëlings behartig het, en
sy boeke en CD’s bemark het.
Min of meer dieselfde tyd woon ‘n baie intelligente kollega ‘n kursus by die
Sewende Daagse Adventiste by, en keer as ‘n hopelose bekeerde jong arde
kreasionis na die kantoor terug. Breinspoel, is die beste wat ek dit kon

48
verduidelik. As hoogs intelligente persoon wat dink, het dit, lyk my, later daartoe
gelei dat hy later weer sienings van sy eie begin ontwikkel het.
Vir ‘n tyd lank was dit egter ‘n geval van kort-kort koppe stamp. Selfs ‘n artikel
deur ‘n bekende teoloog in Die Kerkblad is afgemaak omdat dit onder meer na
die uitdyende heelal verwys, “en dit al lankal verkeerd bewys is.” Vir my, wat
goed bevriend is met die hoof van ‘n sterrewag, en dié hoof met ‘n predikant
getroud is, sy broer en pa predikante is, was dit ondenkbaar om te glo daar is ‘n
soort sameswering.
Nog ‘n interessantheid is dat die jong aarde kreasioniste glo hulle weet meer van
die evolusie”teorie” as die wetenskaplikes self. So is ek gevra watter “teorie” van
die evolusie my pa (meer as dertig jaar gelede oorlede) aangehang het. Ek het
nog nooit van die opsies wat genoem en beskryf is, gehoor nie. Ek het ‘n redelike
goeie idee gehad wat my pa geglo het, en dit het nie in een van die “teorieë” wat
die jong aarde kreasioniste noem, gepas nie.
Trouens, ek kry steeds binne die wetenskap niks wat vaagweg lyk na iets wat die
jong aarde kreasioniste as “die evolusieteorie” beskryf nie. Die bietjie wat ek
uitmaak hou verband met lank reeds uitgediende gedagtes, soos dat hulle glo die
evolusioniste glo dat evolusioniste glo evolusie vind in ‘n noodwendige gelyke lyn
na meer gevorderde vorme plaas. ‘n Gewilde “bewys” hierteen is dan dat daar
steeds ape bestaan. Ek kry niks in hul argumente oor mutasies en genetiese
defekte as oorsaak, en aanpasbaarheid as “snellers” vir oorlewing nie.
Toe ek eers agterkom daar bestaan jong aarde kreasioniste is ek terselfdertyd
gekonfronteer met die omvang daarvan, die onverdraagsaamheid daarvan en ten
slotte dat nie geskroom word om van bedrog gebruik te maak nie. (Die
dinosourusspore oor “mensspore” en die Mount St Helens se lawa-ouderdom).
Heel duidelik is minstens ‘n deel van hierdie mense besig om groot geld uit die
konsep te maak.
Dit wat mense bereid is om te glo is egter verstommend. Kort na my
ontnugtering, kry ons besoek van die party se onderleier uit KwaZulu-Natal, Jo-
ann Downs. Op ‘n openbare vergadering vaar sy uit teen evolusie en vertel met
groot oortuiging die drake wat die Middeleeuse ridders so teengekom het was
eintlik dinosourusse.
‘n Persoon wat skynbaar self ‘n wetenskaplike is, het ook gaan “uitwerk” die
aarde is maar ongeveer 6 000 jaar oud, en vervolgens uitgewerk daar was
genoeg plek in die ark vir dinosourusse en ander uitgestorwe diere. Hoe
wetenskaplik, kan ‘n mens maar net raai gegewe die feit dat nog net ‘n klein
fraksie van die dinosourusspesies al ontdek is, om nie van soogdieragtige
reptiele en ander te praat wat regtig baie, baie groot was nie.
Maar daar is mense wat dit glo.
Daar is lank nie meer sprake van “geloof” nie, gegewe die obsessie om deur
bewyse te weet.
Ten slotte. Gegewe die trauma wat ek self aan die hande van die jong aarde
ervaar het, verstaan ek George en ander se afkeer. Waar ek verskil, is dat ek
steeds graag wil glo die jong aarde kreasioniste sal betreklik gemariginaliseer
bly, en uiteindelik onder die oormag van wetenskaplike bewyse swig.

49
Miskien is die “middelgrond” nie weg nie. Trouens, ek loop heelwat raak – my eie
kerk, die Hervormde Kerk – het in ‘n uitgawe van die Hervormer ook reguit sy
standpunt in hierdie konteks gestel – maar in die geheel gesien kry ‘n mens die
indruk dat die middelgrond nie werklik bereid is om rug styf te maak, die
voorbedagte bedrog van sommige van die jong aarde kreasioniste aan die man
te bring en te weerlê nie, en lidmate onder druk hieroor te ondersteun nie.
Die Europese Unie het enkele jare gelede ‘n beleidsdokument, “Die gevare van
kreasionisme” aanvaar. Die bedoeling was waarskynlik dat dit die gevare van die
jong aarde kreasioniste moes uitwys, maar die opsteller het nie die onderskeid
getref nie, en het in elk geval ook feitelik heelwat oor evolusie en kreasionisme te
wense oorgelaat. Dit moes toe voor aanvaarding hersien word.
Deïstiese evolusioniste, gewone kreasioniste en teoloë moet baie sterker
standpunte inneem, en werklik moeite doen om die jong aarde kreasioniste se
wanvoorstellings verkeerd te bewys. Die jong aarde kreasioniste gebruik die
ignoreringspraktyk van wetenskaplikes as “bewys” dat die wetenskap verkeerd
en dus sonder antwoorde is, en hulle reg is.
Deïstiese evolusioniste voel hulle uiteindelik meer tuis en minder blootgestel in
die omgewing van die ateïstiese evolusioniste waar daar gewoonlik veel minder
veroordeling is.
Kerkgenootskappe moet duideliker standpunt inneem. Terwyl die NG Kerk
formeel Deïstiese evolusie aanvaar, het ‘n NG-predikant wat die jong aarde
kreasionisme aanhang onlangs “namens” die NG Kerk in ‘n RSG-program
opgetree, en sy standunte so gestel dat dit vertolk kon word as die amptelike
standpunt van die NG Kerk.
Die onverdraagsaamheid van die jong aarde kreasioniste laat my onwillekeurig
aan ‘n paar verse in Matt 18 dink – oor die struikelblokke wat daar moet wees,
maar wee hom deur wie die struikelblokke (na geloof) geplaas word.
Ons wil maar God skep, of namens God besluit wie Hy gered het.
My instink is, dat selfs al sou ek ‘n ateïs wees, ek steeds godsdiens, en spesifiek
die Christelike godsdiens, sou ondersteun en aanmoedig as grondslag vir die
nodige moraliteit. Ek sou egter ook nie sonder begrip vir George se periodieke
argwaan wees nie, gegewe my eie traumatiese ervarings aan die hand van
karikatuur-manifestasies van die mens se obsessie om God te skep nie.

Twintig jaar gelede se agter die skerms se staatkundige herinneringe


Nader aan die vuur as die meeste. Dit is hoe ek my betrokkenheid by 20 jaar
gelede se staatkundige verwikkelings in herinnering kan roep.
Ons oudste is 20, en ons tweede, die jongste, word binnekort 17 – hy is op die
laaste Stigtingsdag wat amptelik gedenk is gebore.
Dit vertel in die kleine ‘n verhaal dat daar destyds baie in ons gesin gebeur het
wat ‘n mens se gedagtes vasgevang het. Dat die herinneringe aan die
staatkundige prosesse vaag sou wees is dus te wagte.
Tog het sekere sake ‘n brandende impak op my gemaak.
Ek was destyds die waarnemende hoof van die Subdirektoraat
Gemeensapaktivering wat ‘n samevoeging van verskeie funksies was, soos die
Vrystaatse Provinsiale Regering se intra-BOP, die nodale punt van die Witskrif

50
oor Verstedeliking, die provinsiale werkskeppingsprogram (maar sonder fondse)
en die plaas Roodewal met sy jeugsentrum. Die hooffunksie was egter die
regering se gemeenskapsontwikkelingsprogram, wat nasionaal deur dr. Ossie
Jackson gekoördineer is.
‘n Redelike handvol, met omtrent almal wat naderhand, in afwagting op die nuwe
bedeling, in poste waargeneem het.
Bykomende funksies sou dus onder normale omstandighede omtrent so nodig
soos kasterolie gewees het.
Maar toe werk dinge anders vir my uit.
Ek, as persoon, word getaak om baie van die voorleggings namens die DG en
administrateur te doen oor voorstelle vir hoe die nuwe bedeling behoort te lyk.
Hoekom ek hiervoor “gekies” is, is moeilik te verstaan in die lig daarvan dat daar
in ‘n stadium ook ‘n afdeling Institusionele Ontwikkeling was met ‘n hoof met ‘n
doktorsgraad, en nog ander met meer gevorderde staatkundige kwalifikasies as
ek.
Die antwoord was miskien doodeenvoudig. Enkele jare tevore het ‘n werkstudie-
ondersoek aan die lig gebring dit is die mees koste-effektiewe manier as alle
tikwerk (behalwe die van direkteure en hoër wat sekretaresses gehad het) in ‘n
tikpoel gedoen word. Die gevolg was dat alles moontlik gedoen is om te keer dat
amptenare hul eie tikwerk doen, en rekenaars was dus so skaars soos
hoedertande.
Die uwe het toe al ‘n ruk sy eie rekenaar gehad. ‘n IBM sonder harde skyf wat
“opgegradeer” is om twee “floppy”-drywers te hê. Die drukker was ‘n raserige
lintdrukker wat sulke halwe elektroniese letters gedruk het.
As oud-joernalis tik ek met my twee wysvingers (hulle is saam met die pinkies al
wat nie te dik is om tussen die toetse in te pas nie) vinniger as wat ek kan skryf.
Opdragte, aanvanklik van die Presidentsraad se Staatkundige Komitee, maar
later van Kodesa af, het vandag gekom en die voorleggings moes basies die
volgende dag terug wees. Vir ‘n tikpoelstelsel waar stukke drie, vier keer heen en
weer met die bodes trek voor al die tikfoute reg was (nie almal in die tikpoel het
toe al rekenaars en woordverwerkers gehad nie) was die tydskedule eenvoudig
onmoontlik.
Dus, het die versoek deur die loop van die dag ingekom, is daar daardie aand
voor die rekenaar ingeskuif, en gewerk dat die kubers kraak.
Lank na al ingekruip is het die drukkertjie nog geraas soos hy aan die rolle papier
gevreet het.
Wat egter duideliker onthou word, is die strekking van hierdie voorleggings.
Taamlik lank na die voorleggings al begin loop het, het die NP-regering skynbaar
nog geglo die ANC sal nie ‘n algehele meerderheid behaal nie.
Die bietjie riglyne wat ‘n mens gekry het oor sekere kwessies het hierdie gedagte
weerspieël.
Toe ek by geleentheid aan die administrateur uitwys dat die ANC nie net ‘n
meerderheid gaan behaal nie, maar so ‘n groot meerderheid dat dit onmoontlik
gaan wees om dit met ‘n geloofwaardige kiesstelsel te neutaliseer.

51
Die administrateur, ‘n dekade of so tevore nog my Staatsleerdosent wat ons
geleer het van die Christelike beleid van apartheid versus die humanistiese
beleid van gelykstelling, was ontsteld.
“Is daar dan nie ‘n kiesstelsel wat die meerderheid kan neutraliseer nie?”
“Ja, daar is ‘n stelsel wat sal verhinder dat een party meer as die helfte van die
setels kry, naamlik die blokstemstelsel waar kiesafdelings vergroot word, en
elkeen twee LP’s oplewer – die van die party wat die meerderheid gekry het, en
dié van die party wat die tweede meeste gekry het. Maar gegewe dat die ANC in
dele by die 70 persent (ja, ek was ook nog naïef oor die ANC se werklike steun)
sal dit gewoon nie verdedig kan word nie.”
“Gaan stel tog maar vir ons die voorlegging so op dat hierdie opsie ook ingesluit
is.”
Tik-tik, wrrrrr....
Snags
Wat die staatkundige modelle self betref was die fokus op stelsels wat vir
heterogene bevolkings ontwerp is. Dit het veral oor variasies van etniese
federasies gewentel, maar omdat sommige bevolkingsgroepe, soos die
Afrikaanssprekendes, so wydverspreid oor die heel land woon, is baie aandag
aan modelle van korporatiewe federasie of selfbeskikking geskenk.
Tik-tik, wrrrr....
Snags.
Die omgewing en die aanloop was ook nie maklik nie. Vroeg in 1994, kort voor
die verkiesing, kom die senior werkstudiebeampte by my met ‘n voorgestelde
nuwe organigram vir die Tak Gemeenskapsontwikkeling. Dit stel afsonderlike
direktorate vir wit en vir swart munisipaliteite voor.
“Maar Ma&^%$, jy kan mos nie nou so iets so kort voor die nuwe bedeling
voorstel nie.”
“Wie sê die nuwe bedeling gaan so lyk soos julle voorsien?’
Teen daardie tyd was dit darem al baie, baie duidelik wat Roelf en kie vir die land
beding het. ‘n Mens se persoonlike voorkeure het niks daarmee te make gehad
nie.
Om byvoorbeeld navraag te doen hoekom die vrug van die nagtelike werk skaars
in dokumente se bronne geraadpleeg-lyste voorkom, laat staan nog iets van die
inhoud, het net nog ‘n kopwassessie by die mense buite die provinsie opgelewer.
Daar, was dit gou duidelik, is heeltemal op ‘n ander golflengte “gedink” en het die
ondersteuningspersoneel ‘n baie meerderwaardigheidshouding oor hul “insigte”
gehad.
In kort, die nagtelike tik-tik, wrrrr, was net vir die vertoon.
Die aanloop het ook sy kwota menslike politiek opgelewer. In die beginfases was
daar ‘n DG wat oorkant die heining tuis gevry het, en hierdie vrytjie was
terselfdertyd een van sy senior personeellede. Goed en wel as ‘n mens van
hierdie toedrag van sake bewus was, maar minder gaaf as mens nie was nie, en
teenoor die senior beampte uitpak oor die DG wat darem baie moeite doen om
die werksvloei rondom hierdie situasie te rysmier.
So was daar op omtrent elke vlak tekens van verset – blote vakkundige werk
waar ‘n mens na die beste moontlike beredderingsmodelle kyk en aanbeveel,

52
word as deel van die “oorgawe” gesien, en skielik bevind jy jou met die reputasie
van “links” of “liberaal.”
So ook, in die aanlooptyd was ek sekretaris van die Sub-GBS. Hieroor kan ek
ongeveer niks sê nie weens die toepaslike wetgewing oor amptelike geheime,
maar wat wel minder aangenaam was, was toe dit WVK-tyd is, sit ‘n seksie wat
in een hoek gesit het en gegiggel het oor die verrigtinge, met ‘n stink spoed af en
vra amnestie omdat hulle “opdrag” gehad het.
Twak.
Net so, toe die nuwe bedeling aanbreek, is die mense wat van gister en eergister
alles in hul vermoë gedoen het om my te saboteer deur my as links en liberaal af
te maak, die grootste gatkruipers by die nuwe bedeling. Toe word presies
dieselfde werk wat ek met die nagtelike voorleggings gedoen het, by die nuwe
heersers geslinger om te toon hoe “regs” ek eintlik is.
Skielik word mense wat kort voor die verkiesing nog apartheidsmodelle
voorgestel het direkteure en hoër.
Ma&^%$ self maak dit boontoe, maar sy boetie getuig teen my by die saak wat
ek by die Vrystaatse Skoor aanhangig gemaak het, en word ‘n direkteur by
Suspisie, waar hy sake in ‘n rekordtyd in chaos dompel.
My ou hoofdirekteur roep my in en vermaan my in die teenwoordigheid van die
regsbeampte dat my felheid teen korrupsie vir die nuwe regering probleme skep.
Ek moet bietjie leer diskressie aan die dag lê en weet wanneer om anderkant toe
te kyk. Hy, wat so lief was om te Here, Here, sê as ek hom ooit aanhaal sal hy dit
voor die Here ontken.
Skielik ken ek my eie mense nie meer nie. Hulle ken my in elk geval nie meer
nie.
En ek beland op staat, met die Openbare Beskermer wat steeds nie die finale
verslag oor die saak afgehandel het nie.
Die Administrateur word LUR.
Natuurlik kan ek nie bewys of selfs glo die nagtelike tik-tik, wrrrr, sou van die land
‘n beter plek gemaak het as dit ernstiger opgeneem was nie. Ek was maar ‘n
klein (geïgnoreerde) ratjie in ‘n groot ding.
Wat ek wel weet, is dat dit wat ek so nagtelik getik-tik wrrrr het, het nie in isolasie
gestaan nie. Kenners het met baie soortgelyke voorstelle gekom en
indrukwekkende voorleggings gedoen. Van hierdie modelle werk heel goed in
ander heterogene lande. Soos my eie was dit net goed vir die bronnelyste.
Ek dink nie ek sal oor twintig jaar van nou af verstaan hoe iemand kon reken dat
‘n onbeproefde model op seker die mees heterogene samelewing ter wêreld
losgelaat kon word en sou kon werk nie.
Looks êt de skôrbôrd. Dit het nie.
Dikwels, terwyl ek so in die skraal winterwindjie van HOP-huise dakbalke gesit
het en elektriese bedrading doen, en daar nie geld vir my jongste se terapie vir
sy outisme was nie, het ek maar gewonder of ek nie ook maar moes gegatkruip
het nie.
Maar dan was ek lankal dood. Ek het nie daardie samestelling nie.

53
Sneeustorm plaas gedesentraliseerde kantoor weer in die VSA onder
vergrootglas
Pas het iets die VSA weer getref wat in Suid-Afrika ondenkbaar is: Die
staatsdiens op Capitol Hill het tot stilstand gekom omdat die amptenary weens
sneeustorms nie by die werk kon kom nie. Die amptenare se snoesige
“vakansiedag” in hul huise kos die VSA $100 miljoen per dag.
Dit het die vraag opnuut laat ontstaan: Behoort so iets so verlammend in te werk,
veral in hierdie tyd waar mense met ongelooflik baie kommunikasiemiddele tuis
tog nog “aan diens” kan wees?
Die Christian Science Monitor berig dat tot 9 %, of te wel 102 000 amptenare,
reeds ooreenkomste met die staat het om van hul huise af te werk, en die
regering wil hierdie persentasie nog verder opstoot.
Jare gelede, toe Robert (Taalbul) van Tonder met sy Boerestaat Party (sy
spelling) die politieke toneel kleurvol gemaak het, het ‘n koerantredakteur
opgemerk dit kos ook net iemand met ‘n tikmasjien en faksmasjien om ‘n
politieke party heel sigbaar te kan maak. ‘n Mens kan jou bloot indink hoe
sigbaar ‘n eenman-party met ‘n rekenaar, e-pos en die internet kan wees, met
nog ‘n selfoon op die koop toe.
Kantoorhuur is duur – nie net in huurgeld nie, maar in skoonmaakkostes,
kommunikasieinstrumente, meubels, water en ligte. ‘n Gedesentraliseerde opset
waar elkeen, of so veel as moontlik van die personeel van hul huise af werk, klink
aantreklik. Voeg hierby die voordele van fleksietyd, sodat kinders by die skole
gehaal kan word, en vele meer.
Dit is vanselfsprekend dat nie alle tipes werk hulle tot hierdie soort
desentralisasie leen nie. Sekere aanpassings is nodig, soos dat die fokus van
werksure na werkslading verskuif. Uit ‘n arbeidsregtelike oogpunt sal die fokus
waarskynlik verskuif van werknemers na kontrakteurs.
In Washington lyk dit of dié praktyk, ten spyte van die regering se aanmoediging,
stadiger in die staatsdiens posvat as in die private sektor. ‘n Gevestigde
gemaksone van veral senior personeel wat traag is om die nuwe
kommunikasietegnologie baas te raak, en wat gevestigde werkspatrone soos om
gereeld laat te kom, staan in die weg van behoorlike ontplooiing.

Herrie se kerrie: Piesangrepubliek of nie?


Herrie sien die ANC beplan om van die stelsel van Uitspattige Burgemeesters
ontslae te raak. Herrie wil tog voorstel dat daar sommer terselfdertyd ontslae
geraak word van raadslede wie se munisipale rekenings agterstallig is. Dit sal
nou wel, volgens die Uitspattige Burgemeester, in Dihlabeng se geval beteken
die raad sal nie meer ‘n kworum hê nie.
En net daar lê die uitkomste dalk. Dan kan die regering die munisipalietit onder
administrasie plaas en die Belastingbetalersvereniging vra om sake te kom
regruk. As administrateurs.
Want staan, toekennings vir uitstaande diens is veronderstel om niks met
uitstaande munisipale rekenings te doene te hê nie.
En Mangaung het nog Dihlabeng se vorige Hoof- Uitvoerende Beampte gaan
afvry, en nou lyk die Vrystaatse hoofstad se OG-verslag soos ouma Engela se

54
koekoekhen na sy skielik deur ‘n triestige winterreën oorval is. Met dié verskil, die
hen kan darem nog op haar eie pote staan.
Maar Herrie het ‘n spesmaas die ontslae raak van Uitspattige Burgemeesters
gaan by leë woorde bly. Want sien, die Kartel van Uitspattige Burgemeesters,
beter bekend as die Burgemeesterstaliban (SALGA), sal dit darem heftig
teenstaan.
Nog ‘n rede hoekom Herrie meen die goewerment sal maar langtand regruk, is
oor die siening van wat bevredigend is. Die koerante skryf nog van “’n
beheptheid met middelmatigheid,” dan wonder Herrie net – as dit is hoe
middelmatigheid lyk, hoe lyk swak?
Nee kyk, Herrie is baie begerig dat sake nou gou-gou reggeruk word, want Herrie
kan die versekering gee as die OG se voorspelling dat ‘n misipaal ophou om as
lopende saak voort te bestaan, is dit lelik. Skaars het die OG dié spesmaas oor
Mangaung uitgespreek, toe loop die vullislorries nie. Toe staan hulle. Gelukkig
nie so erg soos in Pretoria nie, maar darem so dat iemand haar vullis in die
Glaspaleis gaan omkeer het.
Herrie hoor ook nou die dag deel van die gasheerstede vir die sokker se
verpligtinge is om ‘n klomp inheemse bome te plant. Gelukkig hoef niemand gate
hiervoor te grawe nie (die grawe is glo gebreek), dit kan sommer in die slaggate
in die strate en op die sypaadjies geplant word.
Dan moet die misipales ook nog vir Fifa tevrede stel dat daar ‘n program is om
die vullis te “recycle.” Herrie het ‘n spesmaas die regering misverstaan dié ding,
want nou “recycle” hulle die HUB’s en ander wat uitgevang word. Dit beteken
hulle meen die spul is “vuilgoed.”
Die soort “recycling” beteken ook die kennis en vernuf word landswyd versprei.
So kan die mense iewers in Noordwes by hul administrateur nou die kundigheid
van tenderbedrog, baantjies en boeties en so meer leer wat die administrateur as
munisipale bestuurder iewers in die Vrystaat opgedoen het.
Herrie wou nog ter afsluiting groet met die wense dat die lesers tog nie op die
peisangskille gly nie, maar neef Karools sê dis g’n piesangskille waarop die
mense so op straat gly nie.

Nuuskommentaar: Suid-Afrika se lesse by die Mayas


In die woude van Sentraal-Amerika word steeds stede ontdek wat eeue gelede
deur die Mayas bewoon, en dan skielik verlaat is net om elders weer ‘n stad met
piramides, paleise en tempels te bou.
Nadat lank kopgekrap is oor die oorsaak vir hierdie proses, is tot die
gevolgtrekking gekom dat dit die gevolg van roofbou was. ‘n Stuk woud is
afgebrand, en gate is met ‘n skerp bamboes in die grond gedruk en mieliepitte
daarin gegooi.
Na ‘n ruk was hierdie grond uitgeput, en is ‘n volgende stuk woud afgebrand, tot
die afstand tussen die landerye en die stad met sy regerende elite te ver geword
het. Dan is ‘n nuwe stad gebou, en die proses het van vooraf begin.
Tot, op ‘n dag, is geen nuwe stad gebou nie. Met die aankoms van die Spaanse
veroweraars is taamlike primitiewe Mayastamme gevind waarvan die inwoners
nog onthou het dat hul oupas en oumas eens in van hierdie stede gewoon het.

55
Die skielike tot stilstand kom van hierdie beskawing was egter meer kompleks as
net die roofbou in die landbou, en hoe dieper gedelf word, hoe meer raakvlakke
word met die huidige Suid-Afrika gevind.
Ten eerste het slegs ‘n klein persentasie elite, hoofsaaklik die adel en die
priesters, die voordeel van die beskawing beleef. Hierdie elite het geleer lees en
skryf, hulle het van die mees verstommende astronomie van hul tyd gelewer en
‘n besonder akkurate kalender opgebou. Hulle het in die paleise en tempels
gewoon.
Die gewone mense het vlak naas hierdie stede in bamboesskuilings onder
betreklik haglike omstandighede gewoon. Hulle self het min voordele uit die
beskawing geput, en moes nog bykomend tot liggaam en siel aan mekaar hou,
hard werk om die elite in staat te stel om in die glans van ‘n gloriebeskawing te
baai.
Tot op ‘n dag.
In Suid-Afrika het ‘n eietydse Mandarynse elite tot stand gekom, wat oor en oor
die vrugte van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging oes. Enkele
jare gelede het Suid-Afrika Brasilië verbygesteek as die meetbare land met die
grootste welvaartsgaping.
Vanoggend berig Volksblad van ‘n Gautengse maatskappy wat die tender
ontvang het om die brandstof te voorsien aan staatsvoertuie wat onder meer
veronderstel is om paaie te herstel. Terwyl berigte oor die meer gat as pad-
toestand van Vrystaatse paaie toeneem, en verwere gehoor word soos dat daar
nie geld vir brandstof is nie, maak dié maatskappy glo tot R2,50 wins per liter.
Vrystaat Landbou het al ‘n geruime tyd gelede hierdie beweerde uitbuiting onder
die verantwoordelike politici se aandag gebring. Niks het egter gebeur nie.
In teendeel, lyk dit asof amptenare wat vrae vra, verskuif of uitgewerk word.
Die naweek is ook berig oor hoeveel dit nou meer kos om uitvoervrugte uit die
Noorde van Limpopo by die markte te kry weens die onrybaarheid van die paaie.
Die matrieksertifikate wat net meer as die helfte van die probeerders kry, is in ‘n
groot persentasie van die gevalle niks meer werd as die algehele weerhouding
van letter- en syfervaardighede wat die grootste deel van die Mayabevolking se
lot was nie.
Die grondhervormingsplan het meer raakvlakke met die Mayas se roofbou as
met ‘n herverdeling van hulpbronne.
Pres. Jacob Zuma is nou onder geweldige morele druk. Hy, as hy polities wil
oorleef, moet nou ‘n aggressiewe moraliteitsveldtog voer om van korrupsie,
nepotisme, wanbestuur en vele meer ontslae te raak. Hy het die voordeel dat hy
nie ver hoef te soek na gevalle om voorbeelde van te maak nie.
Volksblad wys in sy hoofartikel egter ook uit dat Zuma se integriteit onder
verdenking sal bly solank hy nie sy dag in die hof gekry het nie.
Intussen word die tekens al hoe meer dat Suid-Afrikaners ‘n Maya-tipe
beskawing ontwikkel, een waar die elite die mooiste huise bewoon, sportstadions
gebou word wat aan die Mayas se glans-tempels herinner, hul kinders privaat
skole bywoon, die deftigste vuurwaens op die minder wordende gangbare paaie
beweeg, maar die groot deel van die bevolking werkloos is of hande-arbeid verrig
en busse, treine en taxi’s volprop.

56
Die omvang van rommelstrooi dui ook op ‘n gesindheid dat die mense deel voel
van die paleise van die elite-beskawing nie.

Blik Oor oor die Rubicon


Soos katte op ‘n arm plaat. Dis hoe ek, Blik Oor, die liberaliste se Rubicon-
praatjies waarneem.
Na die liberaliste aanvanklik gedink het hulle kan die Rubicon net goedpraat
sonder dat hul eie geloofwaardigheid in die slag bly, het dit in ‘n toutrekkery
ontaard om te kyk wie die meeste fout kan vind oor die afloop van die gevolglike
onderhandelings.
Leopold Scholtz skryf in Die Burger (en hulle plaas dit sowaar) dat FW nie sy
eerste span ingestuur het om te onderhandel nie. Hy meen, as Jors Troelie reg
onthou, dat Roelf nie eens vir die derde of vierde span se plaasverangersbank
sou deug nie.
Maar dis ‘n naarheid hoe Max, Jan-Jan, Tim, Piet Croucamp en ander nou kyk
wie die langste verbroulys kan opstel.
En dan kom almal by die warm plaat: Wat moet hieromtrent gedoen word?
Iets waaroor almal skynbaar saamstem is, moenie FW verkwalik nie.
Zuma het seker ook nie geweet dat as mens onbeskermde seks by vriende se
dogters het, kan daar dalk ‘n nagevolgie wees nie. Ek bedoel, hoe moet ‘n mens
nou so iets geweet het?
Net so, hoe moes FW so tussen Griekse dames geweet het iets gaan anderkant
die Rubicon gebeur ook?
Tweedens, maak van die grondwet gebruik. Nou verstaan die uwe nie so alte
lekker nie. Hulle het nou pas mekaar probeer oortref oor hoe die afloop van die
onderhandelings ‘n aborsie of twee of al amper ‘n miljoen opgelewer het, en nou
wil hulle hê die ding wat nie werk nie, moet gebruik word.
Nou moet ek byvoeg, dit kom nou selde tot my Blikore dat iemand nog praat van
die wigte en teenwigte waaroor een van die kontemporêre swyers eens so hoog
opgegee het. Is hy nou ook oortuig dit werk nie?
Oor die feit dat hulle nie werk nie, is daar min of meer konsensus. Pansat was en
bly ‘n tandelose instrument wat seker al tien jaar gelede bevind het ons Blikore
mag in plaas van FS op ons nommerplate (eintlik ons voertuie s’n) VS gebruik.
Gaan probeer dit en kyk hoe ver jy kom. Want ‘n vorige, vorige, vorige LUR vir
Paaie het die Pansat-bevinding op “appèl” van die swart Mensregtekommissie
geneem en dié het dit na sy berugte Bloemfonteinse kantoor verwys, wat steeds
volhou hulle weet nie van die verwysing nie. (Volksblad het die
verwysingsnommer al by herhaling gepubliseer, dus lyk dit of die eintlike
probleem is die Bloemfonteinse kantoor kan nie lees nie, maar darem op die
Reitz-vier jag maak).
Dus, die swart menseregtekommissie is ook nie juis iets werd nie, en hef aan lê
blykbaar nou voor nadat die vorige Openbare Beskermer., Lawrence
Mushawana met ‘n stewige pakket as voorsitter van die swart
Mensregtekommissie herontplooi is. Mushawana was die Openbare Beskermer
wat minstens twee sake verloor het, soos die Staatsteater- en Petro SA-sake, om

57
sy werk te doen. En ou Blik weet van ‘n ander saak wat al 14 jaar onafgehandel
is, en al drie keer sonder enige reaksie by Zuma se trieng-trieng aangemeld is.
Oor die aborsie wat die Vryheidsfront se goeie plan opgelewer het, naamlik die
Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-,
Godsdiens- en Kultuurgemenskappe hoef ‘n mens maar net van dr. Christo
Landman se stukke op Praag te lees. Selfs die VF het teen die uiteindelike wet
gestem.
Oor die Kommissie vir Vroueregte kan nog minder gesê word. Al wat hierdie
kommissie nog gedoen het was om op belastingbetalerskoste as party tot die
grondwethofsaak oor aborsies toe te tree. Hulle slaag nie eens daarin om gelyke
regte vir Zuma se harem te beding dat hulle elkeen ‘n spannetjie mans mag trou
nie. Dis mos ‘n blatante skending van die grondwetlike verbod op onbillike
diskriminasie. Trouens, omdat die poligame huwelike uit ‘n antieke tradisie
dateer, kan die vroue mos maklik bewys dat daar “in die verlede onbillik teen
hulle gediskrimineer is” en kwalifiseer hulle nou vir regstellende aksie. Volgens
my, Blik Oor, se logika, beteken dit elkeen kan mos nou maar een man meer vat
as wat Zuma vroue vat. Dus, teen die tyd dat Zuma by ses vroue kom, kon
elkeen van sy ses vroue sewe mans geneem het.
Anders, FW, beteken die grondwet wat jou vierdespan reserwe-onderhandelaar
beding het mos niks.
Die ouditeur-generaal werk nog in die sin dat dit wys hoe min munisipaliteite en
staatsdepartemente as lopende sake funksioneer (laas wat ek gesien het was
daar nog enkeles), maar dan kom ‘n misipaal soos Mangaung en meen die doel
van die verslag wat sê die misipaal is met ‘n miljard rand in sy maai is, en ander
foute, is net om van kennis te neem. Ek het nie ‘n OG-verslag nodig om te sien
die dinge is in hul heppie kanon in nie, die slaggate in die pad vertel dit. En ek
dink hier kom ‘n *&^spul as daar met die sokker nog ‘n bykomende 100 000
besoekers se agterente op die stad se oorvol rioolstelsel losgelaat word. Veral as
Suzie haar ding kom doen.
Maar gelukkig is Mangaung (ja, nie Bloemfontein nie, gaan kyk maar op die
amptelike rooster op News 24), se “gasvryheidsbedryf” so behulpsaam dat hulle
met skandelike prysverhogings die toeriste weghou.
Nou wat bly oor? Die regbank? Ja oom FW, maar daar is ‘n lastigheid. Nie almal
wat deur die regering ingedoen of in die steek gelaat word, boer by Bothaville
soos oom Crawford en kan sulke sake bekostig nie. En dan praat Jors Troelie
van eens van die “flaw” dat die president na sekere vertoonprosesses, die
regters aanstel nie.
Maar oom FW, gaan lees gerus hoe word een van die belangrikste
grondwethofuitsprake geïnterpreteer, die aan van Walker v City Council of
Pretoria, en ons praat weer. Lees ‘n mens die regsgelkeerdes se interpretasies
sou ‘n mens sweer Abie Sachs se minderheidsuitspraak is die geldende een.
Plaas hulle doen dit met die minderheidsuitspraak oor die onteienings van
padreserwes.
Dan wil ‘n mens nog nie eens begin oor sulke blatanthede soos die regering wat
op privaat boere die sekerheid van verbyfregwet toepas, maar op staatsplase die

58
staat van dieselfde verantwoordelikhede vrystel nie. Toe, het oom FW vir
Sexwale na sy kafpratery hieroor uitgevra?
En oor grondeienaars wie se mineraleregte onteien is. Sodat soutboere nou
moet duur permitte en goed kry om hul eie sout te oes omdat die sout nou eintlik
die piepôl s’n is.
Ja, oom FW, ou Blik weet daar is ‘n bepaling in die grondwet wat sê Suid-Afrika
word Volkeregtelik gebind aan internasionale ooreenkomste wat hy onderteken
het. Ooreenkomste soos verskeie wat sê grond mag nie onteien word sonder ‘n
behoorlike, markverwante vergoeding nie. As oom FW my nie wil glo nie, gaan
lees maar self die grondwet van die Afrika Kommissie vir Mense- en Groepregte
(ja, oom lees reg, daar staan ook groepregte in die naam al verswyg Naspers se
ideologiese kartel dit) waarvan Suid-Afrika lid is. Maar steur Mugabe hom aan so
‘n verdrag? En gaan oom Crawford nou sy geld by ons, Suid-Afrika se
belastingebetalers kry, omdat die regering te slap was om Mugabe vas te vat?
Dus, Jan-Jan, Max, Tim, Piet en die annerlikes wat meen die grondwet moet
ingespan word om dinge volgens die liberale ideologie vlot te laat verloop,
probeer maar iets anders met my. Hierdie Blik Ore wil nie luister as mense sulke
longdropgesprekke voer nie. En klap maar aan ‘n Blikoor om dit te lat voel en kyk
wat gebeur.
Maar gestel die wigte en teenwigte sou werk, en sou bekostigbaar wees om die
regering ten opsigte van elke burger (ja die grondwet “waarborg” dit ook)
gelykheid voor die reg te bied, wat dink julle gaan gebeur?
Kom, laat hierdie dom Blik Oor julle gou inlig. Soos die ANC by geleentheid na ‘n
grondwetlike bloedneus verwytend gesê het: “In ‘n demokrasie moet die
meerderheidswil darem ook iets tel.”
En toe kom min of meer dieselfde klomp swart redakteurs wat politieke
korrektheid ‘n gat in die dyk geslaan het, en dreig met geweld sou blankes so
aangaan om die regering (lees swart regering) te kritiseer. Dié koor is ook
sommer deur ‘n klompie negrofiliste soos dr. Nico Smit aangevul.
In gewone Blikoor-Afrikaans: “Hou nou aan om my speelgoed met slim foefies te
steel, en ek sal aanhou om jou op ander plekke te knyp.”
Of anders, dit kweek die generasie waarvan Julius Malema die kroonprins is.
Sien oom FW nou hoekom dit nogal half belangrik is dat ‘n grondwet so
onderhandel moes wees dat dit ook in die praktyk moes werk?
En hoekom ‘n herskikking nodig is. Ja, die liberale soos Max argumenteer daar is
mos nie ‘n manier dat die prez en ander tot ‘n heronderhandelde skikking sou
instem nie (want hulle het meer ingepalm gekry as waarop hulle gereken het,
aldus Leopold en ander) maar dit wys maar net weer die verstardheid van
liberale denke. Natuurlik gaan die ANC nie sommer instem nie. Maar dit is deel
van die bedingingsmag wat die Afrikaner kan monster dat die regering hopelik
sal insien dat daar heronderhandel moet word.
Nou is ek blatant eerlik: Oor die res van die liberaliste se argumente hoekom iets
gedoem moet word sonder om iets te doen, soos om hard te werk (as mens nog
werk het) is buite my begripsveld. Dit klink vir my verdag baie soos liberale
teorieë, en soos ons almal weet, is die definisie van ‘n teorie dat dit iets is wat nie

59
in die praktyk werk nie. Soos die teorie dat die grondwet oor ‘n klomp
grondwetlike liggame beskik wat die burgers se grondwetlike regte beskerm.
Laat niemand sê dat ek, Blik Oor, nie ‘n opbouende bydrae tot die heropbou van
ons land lewer nie.

Wat is ‘n Christelike koerant?


Toe ‘n briefskrywer op Praag vra dat ‘n Christelike koerant vir die Afrikaner tot
stand kom, was ‘n vroeë reaksie dat daar nie ‘n behoefte aan ‘n
fundamentalistiese Christelike koerant is nie.
Maar wat is ‘n Christelike koerant? As oud-redakteur van ‘n Christelike koerant
(ondergegaan) gaan ek probeer antwoord.
Die kort antwoord: Om te sien dat daar nie van fundamentalisme sprake is nie,
gaan besoek gereeld die webwerf met die elektroniese weergawe van Trouw op
die internet. Aanverwant, Volksblad wat ‘n dekade of so gelede sy missie gestel
het, en ‘n leser teleurgesteld daarop reageer dat dit nie Christelik hierby insluit
nie. Volksblad reageer dadelik deur te verduidelik Christelik is vanselfsprekend
inbegrepe. Met die jongste beleidstelling was Christelik opnuut uitgesluit, en was
dit nie van dié van die DA te onderskei nie.
Op die onseker gronde kan na die Christian Science Monitor gekyk word, nou
feitlik uitsluitlik ‘n internetkoerant. Christian Science lê waarskynlik net so ver van
die Christen-sentrum as die Mormoonse kerk.
Die langer antwoord: Christen- fundamentalisme is ‘n term wat baie los en vas
gebruik word, maar het tradisioneel ‘n spesifieke betekenis, naamlik ‘n beweging
wat in die VSA uit onder meer die Baptisme ontstaan het, en Suid-Afrika deur ‘n
aantal charismatiese kerke binnegekom het. Een van die opvallende kenmerke is
die mate waarin die Bybel letterlik vertolk word.
Een van die terreine waarop dit gereeld duidelik gemanifesteer word, is die jong
aarde kreasionisme.
Die jong aarde kreasionisme verskil in twee opsigte van die gewone,
konvensionele kreasionisme, naamlik ‘n beheptheid met die bepaling van die
ouderdom van die aarde, en tweedens om dit te probeer bewys en dan kwasi-
wetenskap (en dikwels suiwer bedrog) inspan om dit te probeer bewys, terwyl die
konvensionele kreasioniste die Bybel as geloofsboek, en nie bewysboek nie,
aanvaar.
Die vernaamste onderskeid is dat die tradisionele kreasioniste die Bybel in
geheel neem en dus die tekste wat dui daarop dat een dag vir God soos ‘n
duisend jaar, en ‘n duisend jaar soos een dag is, insluitend dat die duisend as
simboliese getal vir oneindig baie / volmaakte verstaan word.
Hoofstroom-kerke het oor die algemeen nie ‘n probleem met die Deïstiese
evolusie nie.
Die jong aarde kreasioniste, wat na hulself as “die Christene” of “die kreasioniste”
verwys neig om geen standpunt wat dialekties van hulle s’n verskil, as ook
Christelik te aanvaar nie, en staan dikwels baie onverdraagsaam teen ander
standpunte. Daar is selfs “kreasionisme-evangelisasieaksies” kompleet asof jong
aarde kreasionisme soos ‘n godsdiens die produk van evangelisasie kan wees.
In werklikheid is daar maar een Evangelie.

60
Christelike koerante het waarskynlik hul hande meer vol met fundamentaliste as
gewone sekulêre koerante, omdat die fundamentaliste hierdie koerante probeer
inpalm om die fundamentalistiese boodskap te verkondig. So ‘n “oornamepoging”
is lelik – vra my. ‘n Tante wat ons geteister het oor ‘n geborgde wynrubriek. (Haar
eie kerk het nie ‘n probleem daarmee gehad nie).
Dit raak nag om iets van wetenskaplike aard te publiseer. Word ‘n nuwe fossiel
ontdek en ewe onskuldig geskryf dié dier het 250 miljoen jaar gelede geleef, dan
kom die briewe “dat Christene glo / weet die aarde is 6 000 jaar oud.”
En probeer naïef genoeg wees om hulle aan die hand van, soos in my geval,
opleiding in geomorfologie te antwoord, dan word die sluise van die hel op jou
oopgetrek.
In die Vrystaat sit ‘n mens met talle van hierdie beeldhouwerke van God wat
miljoene en selfs duisende miljoene jaar oud is, soos die Vredefort-impakkater,
Golden Gate, die goudneerslae en vele meer.
Buite-om die skeppingskwessie bied fundamentalisme nie te veel probleme aan
die joernalistiek nie. Ja, daar is die gevalle wat probleem met ‘n wynrubriek het
(kyk net hoe steek jy jou kop in ‘n bynes om na die Evangelie te verwys waar
Jesus die water in wyn verander het), ‘n verslaggewer of joernalis wat rook, of ‘n
grafiese kunstenaar wat ‘n selfde geslag lewensmaat het of wat met haar kêrel
saamwoon.
Maar in die praktyk – hoe sal ‘n Christelike koerant van ‘n sekulêre of liberale
koerant verskil?
Ten eerste is dit veilig om te sê so ‘n koerant sal nie deel van die geel pers wees
nie.
Dit sal nie ‘n “Wat sê die sterre”-rubriek in hê nie.
Die kanse is ook beter dat die lesers nuus sal kry oor die rits referendums en
hofuitsprake in die VSA om gay huwelike in bykans elke deelstaat te verbied.
Die lesers sal waarskynlik ook gelees het dat ‘n onlangse peiling getoon het dat
die meeste Amerikaners nou vir die eerste keer sedert dit gemeet word, teen
aborsies op aanvraag gekant is. Hulle sou waarskynlik ook gelees het dat Barack
Obama nie net ten gunste van aborsies is nie, maar ook die sg, en grusame,
“partial birth”-aborsies, maar die stryd om aborsies op aanvraag te stuit met 20
jaar teruggesit het. Hulle sou ook waarskynlik gelees het dat mense eers na
hulle vir Obama gestem het, van sy standpunt bewus geword het (hy het dit nie
geheim gehou nie, maar die euforie het mense “blind” gemaak) en dan ook
verstaan hoekom Obama se gewildheid so gou ‘n knou gekry het.
Heel moontlik sou Suid-Afrikaanse lesers hulle nie nou in die een rubriek na die
ander vasloop waarin mense soos Tim du Plessis en Max du Preez erken die
huidige bestel werk nie, en dan baie hard moet dink om binne die beperkings van
liberale denke oplossings te probeer voorhou. Oplossings wat buite my beperkte
begripsveld val.
‘n Tipiese Christelike koerant verklaar homself polities onverbonde (en bedoel
dit) en beywer hom vir sy eie standpunte. Hy span nie God as sy werktuig in nie,
maar is eerder ‘n werktuig van God.
Wanneer ‘n Christelike koerant wél begin kant kies, is dit gewoonlik in die
konserwatiewer dampkring, spesifiek waar dit met morele politiek ooreenval. Een

61
van die sigbaarste beleidseksponente hiervan is die fokus wat sulke partye op
gesinswaardes plaas.
Die Christenpolitiek maak weer deel hiervan uit. Breedweg val dit uiteen in
Christelike volkseie, en Christen-demokrasie. ‘n Derde been, Christelik-
nasionaal, het effektief “uitgesterf” weens assosiasie met oorle apartheid.
Elkeen hiervan het weer verskillende manifestasies.
Die hoofgroepering is die Europese Christen-demokrasie wat onder meer die
regerende partye in Duitsland, Nederland en Vlaandere (en ook België) oplewer.
Hulle is gesetel in wat genoem word “die Christelike tradisie” eerder as “die
Christelike geloof.” Hulle neig dus ook om oop te wees vir Moslems, ateïste,
agnostici en ander, maar met die kernelement dat dit geskoei is op waardes wat
hul neerslag in Europa se Christelike tradisie het. ‘n Belangrike kenmerk van die
Duitse CDU se beleid is die verskansing van die regte van groepe (inbegrepe
minderheidsregte). Die feit dat Duitse staatskole verplig word om
godsdiensonderrig aan te bied (maar dis nie verplig om dit te neem nie) is meer
gewortel in ‘n afkeer van die morele verval onder die Nazi’s as in die godsdiens.
Trouens, leerlinge kan uit ‘n lysie kies oor watter godsdiens hulle onderrig wil
word.
Dit staan waarskynlik op die teenoorgestelde pool van ‘n Suid-Afrikaanse party
soos die ACDP wat effektief alles in Engels doen (behalwe naby verkiesings) en
sedert die verlies van provinsiale setels met Afrikaanssprekende bekleërs ‘n
grootlikse swye oor sake soos plaasaanvalle.
Die kleiner Christen-Demokratiese Party is hier weer nader aan die CDU se
oriëntasie ten opsigte van diversiteit en reik alle nuusverklarings tweetalig uit, en
veroordeel alle plaasmoorde waarvan kennis geneem word.
Alle Christen-demokratiese partye waarvan ek weet staan godsdiensvryheid
voor, en almal voel sterk oor persvryheid – in der mate dat die huidige Vlaamse
premier dit tevore as die vierde been van die regering genoem het.
‘n Interessante ander manifestasie is die kwessie van Christelike vakbonde, wat
in die buiteland groot is en ‘n sterk teenwig teen sosialistiese vakbonde vorm.
Hulle het ‘n baie groter missie in terme van die bevordering van die wel en weë
van lede en hul gesinslede as die sosialistiese vakbonde.
Waar hulle in Europa na-aan die Christen-demokratiese partye staan, staan die
Suid-Afrikaanse weergawe, Solidariteit, eerder na-aan die Christelike Volkseie as
die Christen-demokrasie.
Ek het die vermoede dat die opkoms van Moslem-fundamentalisme te maklik na
die Christendom geprojekteer word. Hoewel van die ekstremistiese groepe in
Suid-Afrika op die oog af baie ooreenkomste met die Moslem-fundamentalisme
het, is dit nie deel van die formele fundamentalistiese beweging nie.
Waarteen ons moet waak is dat die situasie nie ontstaan waar twee pole
ontwikkel nie – die wat soos George Claassen openlik ateïsties aan die een kant
staan, en ‘n groep wat as volslae fundamentaliste op die ander kant staan nie.

62
Mediawoelinge in Biskaje
Die selfegeringstatus wat die Baske na Franco se dood van Spanje verkry het,
het nie alle probleme opgelos nie. Dit word goed deur die lot van twee koeante in
hierdie gebied gedemonstreer.
Aan die een kant het die aanklaers nou, na sewe jaar gevra dat die vyf Baskiese
joernaliste wat tereg staan dat hul koerant, Egunkaria, die Baskiese terreurgroep,
ETA, gesteun het, nou vrygelaat word. Die aanklaers voer aan dat daar ‘n gebrek
aan bewyse bestaan. Die koerant is sedert 2003 nie meer toegelaat om te
verskyn nie.
Pas het ‘n vermeende ETA-bom by nog ‘n dagblad afgegaan, ‘n meter dik muur –
juis versterk teen moontlike bomaanvalle - verwoes en ‘n deel van die gebou se
dak het ook in die slag gebly. Hierdie koerant, El Correo (Die Koerier) verskyn in
Spaans.
Verslaggewers sonder Grense het op beide insidente gereageer. Dié organisasie
vra dat die regter die vyf joernaliste vryspreek en dat die koerant toegelaat word
om weer te verskyn. Die uitgerekte verhoor en verdagings jaar na jaar was as
onwaardig van ‘n lidland van die Europese Unie beskryf. Die vermeende ETA-
aanval op El Correo is ook veroordeel.
Die Baskiese gebied – dit wil sê waar die Baskiese owerheid oor ‘n mate van
selfregering beskik, bestaan uit die provinsies Biskaje, Alava en Guiposcua.
Pogings om Biskaje op staatkundige gelyke voet met die res van Spanje te plaas
en die reg op afskeiding word veral in Spanje teengestaan. Intern is die Baske
ook nie volkome eendragtig nie. Die talle dialekte van Baskies en die
teenwoordigheid van verskeie klein minderheidsgroepe in Baskiese gebied het
Spaans in sekere opsigte, veral hoër onderrig, ‘n voorkeurtaal gemaak. Eers teen
die einde van die 20ste eeu is ‘n gestandaardiseerde Baskies, Batue, ingevoer
wat die taal volwaardige wetenskaplike uitdrukkingsvermoë gee. Dit sal na
verwagting die status van Baskies by sy eie sprekers baie bevorder.

Amerikaanse tea party – teeparty of politieke krag?


Net so min as wat die Bostonse teeparty op 16 Desember 1773 ‘n werklike
teeparty was, so min is die huidige Tea party-bewiging iets wat die wêreld kan
ignoreer – al word ook hoe daarmee die spot gedryf.
‘n Onlangse peiling deur NBC News en die Walle Street Journal het 41 persent
volwasse Amerikaners aangegdui dat hulle ‘n positiewe siening van die Tea party
het, teenoor 35 persent wat ‘n positiewe siening van pres. Barack Obama se
Demokratiese Party het. Die kritiese Washington Post meld dat steun hiervoor
verlede jaar landswyd “ontplof” het.
Die VSA word gekenmerk deur ‘n de facto tweepartystelsel, waar die
Republikeine en die Demokrate sake uitspook. Daar is tallose ander partye, maar
hulle word gewoon fyngemaal tussen die twee grotes, en is veral op nasionale
vlak kwalik relevant.
Amerikaners wend hulle dus tot ‘n groot mate tot lobbies. Dit is moontlik omdat
Amerikaanse Kongreslede nie soos in Suid-Afrika tot koukusgerigte stemmery
ingebind is nie. Van die lobbies funksioneer effektief soos politieke partye, het ‘n
volledige beleid, genereer fondse en veldtogte, en besluit dan welke kandidate

63
gesteun moet word, ongeag hul politieke party. Die saak, en nie die party nie, is
wat saak maak.
Een van die grotes is die Christian Coalition of America met sowat 4 miljoen
ingeskrewe lede. Dit het ‘n volledige beleidstelling op sy web.
Nou is daar die Tea party, wat as beweging beskryf word, en die “party” met ‘n
klein letter geskryf word sodat dit nie met ‘n party verwar moet word nie.
Die Tea party is gebore uit veral wit middelklas Amerikaners se keelvolheid vir
oplopende staatskuld, veral noudat pres. Obama hard werk om ‘n tipe
sosialistiese (welsynstaat) gesondheidsorgstelsel in te voer.
Die Tea party word meer met die Demokratiese Party geassosieer, en het
onlangs baie daartoe bygedra dat die Republikein, Scott Brown, in wyle sen.
Ted Kennedy se setel verkies te kry.
Tog sukkel die Amerikaanse media nog om ‘n begrip te vorm van wat die Tea
party werklik beteken. Juis weens die tekens dat dit ‘n “conservative revolution”
kan wees, was die hoofsaaklik liberale Amerikaanse pers stadig uit die blokke
om werklik kennis te neem, al was die sentimente wat dit onderlê al ‘n ruk lank
teenwoordig.
Een van die vroegste tekens dat die wêreld nie Obama se verkiesing tot
president moes vertolk as ‘n besliste liberale stap deur die kiesers nie, was toe ‘n
peiling kort na sy verkiesing gedui het dat die meeste Amerikaners sedert dit
gemeet word, nou teen aborsies op aanvraag is. Tog het hulle kort tevore die
stryd om aborsies op aanvraag tersyde gestel te kry, twintig jaar teruggesit deur
Obama in te stem.
Kort hierna het Amerikaanse deelstate op ‘n streep, die “liberale Ooste” ingesluit
op enkeles na huwelike van dieselfde geslag aan die ban gedoen. Dit het dikwels
gevolg nadat referendums afgedwing is.
Op laas is Obama se gewildheid ook baie gou daarmee heen.
Is daar ‘n Suid-Afrikaanse analoog?
Die naaste onlangse weergawe is waarskynlik die Cope-euforie wat die beste
opsie sou bied teenoor ‘n gegewe. Dit het sterk uit ‘n verkiesing getree al het
erge krake reeds voor die verkiesing gewys, en terwyl dit duidelik was dat die
party moeite sou hê om almal wat entoesiasties meegedoen het, beleidsgewys in
te bind.
Soos met Cope, is dit onseker hoe die “party” gaan reageer op sy eerste
nasionale konvensie wat gister begin het. Gaan die uiteenlopende sigbare leiers,
wat Sahrah Palin insluit, mekaar genoegsaam kan vind om die eenheid te
bewaar? Vroeë berigte dui op grootskaalse ongelukkigheid en beskuldigings,
maar die harde feit is dat die 600 kaartjies (ja, konvensiegangers moet stywe
bedrae opdok) uitverkoop en is talle ander daarom weggewys moes word.
Of gaan hierdie “party” ook soos die Bostonse “tea party” in die see beland en
daarna net as faktor in die geskiedenisboeke opgeteken wees?
Al is dit iets wat iewers in die toekoms gaan platval, verdien dit meer aandag in
die Suid-Afrikaanse media.

64
Die verduideliking
Die toneel baie jare gelede tydens ‘n opleidings- en begrotingsvergadering in
een. Dit was een van my bestuurstegnieke om al die personeel by ‘n
begrotingsvergadering te betrek, sodat hulle sommer vroeg die waarheid kan leer
van baie behoeftes, en min hulpbronne.
Die een junior het groot, groot planne. Ons moet dit en dat doen, en sommer die
ander ding ook.
Hy is pas afgestudeer met ‘n deftige graad, met beide ouers onderwysers. Sy
graad by Vista Universiteit verwerf.
“En waar moet die geld vandaan kom?”
“From government. Government has unlimited sources.”
Weer val ek op my geykte modelletjie terug.
“Jy het een bees. Jy leen die bees vir Ntoko, en hy gee jou ‘n I owe you-papiertjie
vir daai bees. Hoeveel is daai papiertjie werd?”
“Een bees.”
“En nou gaan Ntoko en hy gee nog so ‘n papiertjie vir Mpusella, met daai selfde
bees as surety. Nou hoeveel is daai papiertjie van jou wat jy by Ntoko gekry het
werd.”
“’n Halwe bees.”
“En nou gaan Ntoko nog en hy gee sulke papiertjies vir vier ander mense. Wat
doen jy?”
“Ek donder vir Ntoko.”
Nou verstaan my pas-gegradueerde kollega van hoekom die destydse
goewerment nie die paaie geteer en sommer met robyne ook uitgevoer het nie.
Hoekom elke huis nie ‘n spoelêwwie en water verniet gekry het nie.
Hy het miskien verstaan, maar verstaan die ministers? Die LUR’e. Die Uitspattige
Burgemeesters – dié weet ons al lankal, hulle het nie die vaagste benul nie.
Die Malema-verduideliking daarvoor dat die nuwe goewerment ook nie by alles
kan bykom nie, na eers geld op hom gemors is soos R300 000 per maand vir
beskerming, is eenvoudig. Dis oor die wit mense steeds met al die geld sit.
Nasionaliseer die myne, neem die wit mense se werk weg...
So gaan hierdie ontwykende Kruger-triljoene iewers vandaan kom en gaan die
regering “unlimited resources” hê.
Al bestaan dit, en kry hulle dit, party hierdie regering dit binne ‘n dag uit.
Of koop vaal ballonne met die punte afgesny sodat dit kan pas.
Ek het al gewonder presies wat in “unlimited resources.”
Neem nou jou kroos na ‘n rugbywedstryd en sê vir hulle jy het “unlimited
resources” en hulle kan soveel koeldrank, tjips en pette koop as hulle wil.
Voor die hoofvoorwedstryd, is jy gewaarborg om sonder sent te sit.
Dan wil ‘n mens nie eens praat van ‘n eendag-krieketwedstryd nie.
By geleentheid het ek ook gedink ek is amper by “unlimited.” Ek is met ‘n
mediakaart by die rugby in, kleinman is te jonk en stap onder die kaartjieknipper
se neus deur, en ouboet het buite ‘n kaartjie persent gekry.
Die uwe sit voor rustyd nog en wonder of hy hom die luukse van ‘n bier kan
veroorloof, toe ‘n stemmetjie sê: “Maak net eers seker of daar genoeg bates vir
die aanskaf van likiede bates is.”

65
Toe nou nie. Trouens, ‘n halwe Coke word gekonfiskeer om darem iets te hê om
vir die karwag te kan gee – ‘n oulike knaap wat karre oppas om te studeer.
Want toe was die parkeergeld ook al in tjips of iets omgesit.
Iets klop nie, tot ek begin navraag doen wat kos wat by die rugby.
Ag neem man, die borge is ‘n rip of, besef ek. Die pryse wat die mense vir die
“borge” se produkte moet betaal maak ver meer as vir die paar rand borgskappe
op.
Omtrent, besef ek, soos om belasting en liksensiegeld en petrolheffings vir paaie
te betaal, maar dan nog tolgeld ook te moet hoes. En steed nie ordentlike paaie
te hê nie.
Ja nee, besef ek bitter. Daar is deesdae darem baie Ntoko’s wat I owe you’s loop
en uitdeel. Wys hulle net vir my, ek het skielik ‘n onbedaarlike belusting om vir ‘n
paar dinge te gaan verduidelik. So met ‘n opgerolde plat hand.

Osama se bykomende rol as paaiboelie


Om enige Amerikaner se aandag vas te vang, noem net Al Kaïda of Osama bin
Laden, al is dit eintlik iets anders waaroor ‘n mens ‘n stelling wil maak.
Dit is ook nou die indruk wat geskep word uit die voordrag oor terreurbedreigings
wat die CIA se direkteur, Leon Panetta en ander intelligensiehoës voor die
Amerikaanse Kongres.
Niemand sal betwyfel dat Al Kaïda ‘n bedreiging inhou nie, en dat die
waarskuwing dat so ‘n aanval in die volgende drie tot ses maande verwag kan
word, nie, maar die tipe aanval wat verwag word is skynbaar nie meer die groot
probleem nie.
Die skade wat kuberterroriste kan aanrig, is skynbaar veel erger.
Maar om op hierdie gevaar te wys en skadebeheer toe te pas op pres. Barack
Obama se voorgestelde besnoeiings in die Homeland Security se Kuber-
afdeling, moet ‘n bedreiging voorgehou word wat die taal van die politici praat.
En dit is Al Kaïda en Osama, veral aangevuur nadat die Nigeriër, Umar Farouk
Abdulmutullab op Kersdag ‘n vliegtuig in vlug van Amsterdam na Detroit met
gesofistikeerde plofstof probeer opblaas het.
Dit help ook dat Abdulmuullab volgens die intelligensievoorlegging soos ‘n
kanarie sing. Dit gee geloofwaardigheid aan enige aansprake. Die skietorgie van
die militêre sielkundige by Fort Hood, maj. Nidal Hassan, help ook om die
Kongres en publiek se aandag vasgevang te hou van ‘n bedreiging uit radikale
Islam-oorde.
Weens die intensiewe intelligensieveldtog om Al Kaïda te neutraliseer, is dit nou
bykans onmoontlik vir ‘n goed-opgeleide terroiris om met enige beduidende soort
plofstof op ‘n plek te beland waar hy kan skade aanrig.
Daarom, waarsku Panetta, sal dit ‘n “skoon” terroris wees wat baie kort aan
opleiding blootgestel was sodat die intelligensieagentskappe hom nog nie kon
“optel” nie, en sy wapens sal nuut-geïmproviseerd wees. Die uiteindelike
terreurdaad sal ook gouer uitgevoer word, ook om te keer dat die intelligensie-
agentskappe tyd het om die spoor te vat.
Om veilig te wees, meen die CIA egter ook ‘n terroris sal baie goed opgelei moet
wees om met meer gesofistikeerde plofstof te kan werk as dit wat Abdulmutllab

66
aan boord gesmokkel het. Hierdie soort plofstof, meen die CIA, behoort nou deur
nuwe intelligensie-inligting en verbeterde sekuriteit nie weer ‘n bedreiging in te
hou nie.
Maar die minder goed opgeleide wat nou wesenlike gevaar inhou, is ‘n tipiese
“alleenlopende wolf.” Baie van hulle sal “tuisvervaardigde ekstremiste” wees wat
deur Al Kaïda bearbei word om terreur te pleeg.
Dit is egter die potensiaal van kuberaanvalle wat nou die grootste bedreiging
inhou. Dit kan massiewe infratrukturele skade tot gevolg hê, en dit kan die
wêreldekonomie in ‘n warboel laat ontaard – alles veilig agter ‘n rekenaarskerm
baie ver van die teikengebiede. Dit kan, in kort, die gerekenariseerde del van die
wêreld tot stilstand bring.
Obama het beloof om hierdie bedreiging ernstiger op te neem, maar toe in die
prakyk begrotingsbesnoeiings by die bekampers aanbeveel.
Nou word Al Kaïda benewens sy werklike bedreiging, ook as paaiboelie gebruik
om die kuberbedreiging te kan hoklslaan.
Bron: Verwerk en bygewerk uit ‘n Montana Standard-artikel

Hoëspoedtreine ‘n oplossing vir SA?


Navorsing wys hoëspoedtreine kan vliegtuie tot en met ‘n radius van ‘n 1 000
kilometer nie net met pryse klop nie, maar reistyd ook. Boonop laat die reis per
trein tussen Parys en Londen net ‘n tiende van die koolstofspoor as dieselfde reis
per vliegtuig.
Die tegnologie is daar. Al wat kortkom, is om die vooropgesette idees af te skud.
Dis nou in die VSA, aldus pres. Barack Obama.
Die Amerikaanse Departement van Vervoer het, luidens die Christian Science
Monitor, reeds elf trajekte vir hoëspoed-treine geïdentifiseer, waaronder die
sowat 600 kilometer tussen Los Angeles en San Francisco.
Met al die sekuriteitsmaatreëls en ander vertragings wat met lugvervoer verband
hou, is ‘n reis met ‘n hoëspoedtrein veel vinniger.
China beplan om 42 hoëspoedtrajekte oor ‘n totale afstand van 13 000 kilometer
te bou. Volgens die Chinese sal hulle met hierdie trajekte jaarliks 180 miljoen
mense kan vervoer, dubbel soveel as wat jaarliks met ‘n vierbaanpad vervoer
kan word.
Die Amerikaners kry ‘n $8 biljoen stimuluspakket van die Kongres om die VSA se
reisigers van pad- en lugvervoer na hoëspoedtreine te laat omskakel.

Mediabesteding in Nederland af – maar dagblaaie hou kop bo water


Mediabesteding in Nederland het verlede jaar met 3,1 persent afgeneem, aldus
Nielsen Media.
Dagblaaie se besteding het ongeveer onveranderd gebly, maar tydskrifte wat op
die algemene publiek gerig is, se besteding het met 16 % afgeneem, en
vaktydskrifte met 20 %.
Dié bevinding, gebaseer op advertensie-inkomstes, is effens verrassend
aangesien die indruk oor die algemeen geskep word dat dit dagblaaie is wat teen
die inligtingsvloei op die internet noustrop trek. Die internet se advertensie-
inkomste het juis met 9 % afgeneem.

67
Die karakter van God
‘n Leraar wat ouers tydens ‘n diens ergerlik betig omdat hulle hul kinders leer
van “Liewe Jesus.” Want, verduidelik hy, dit weerspieël nie die karakter van die
Here nie.
En nee, nie vanaf ‘n vreemde preekstoel nie, van ‘n Dopperspreekstoel.
Maar was hy verkeerd?
In die begin het God die hemel en aarde gemaak. En toe die mens.
En van toe af skep die mens God.
Die mens kan geensins ‘n volledige beeld van God vorm nie. En hoewel dit die
mens nie veroorloof is om dit te doen nie, probeer elkeen God na sy eie
behoeftes vorm en verstaan.
Dié kwessie het opnuut ontstaan na die ramp wat Haïti getref het, en van die
inwoners se voedoe-praktyke om die dooies weer op te wek deur onder andere
rum op die grond te stort, en allerlei spreuke aan te hef. (Artikel hieronder, maar
ook vroeëre artikel op dié blog).
Straf God die mense vir dwaalleer? Gaan God Suid-Afrika ook so straf weens die
toename in amptelike animistiese gebruike?
Gog openbaar Hom immers in die Ou Testament as ‘n God wat praktyke wat hy
verafsku straf – Sodom en Gamorra, Ninevé wat op die nippertjie gespaar is, die
Israeliete wat in die woestyn deur slange aangeval is, die Sondvloed. ..
Die probleem met die teenswoordige toepassing van hierdie voorbeelde is dat
elkeen in ‘n spesifieke konteks geskied het.
Die verhaal van Jona is heel waarskynlik ‘n simboliese verhaal, maar dit dui
nietemin aan dat God se genade dikwels as groter as God se woede teenoor ons
openbaar word.
Wanneer God die Tien Gebooie, Sy wet, openbaar, stel Hy dit ter aanvang
duidelik dat Hy ongehoorsaamheid tot in die derde en vierde geslag straf, maar
dat Hy Liefde tot in die duisendste geslag (simbool van die oneindige) beloon.
In die Nuwe Testament word dit nog duideliker...Liefde vir God, en liefde vir die
naaste (en selfs die vyand). Liefde is lankmoedig, dit hou nie boek van die kwaad
nie ...maar selfs uit die Ou Testament...’n sagte woord keer die grimmigheid weg.
En Jesus wat self sê: “Laat die kindertjies na My toe kom...”
Liewe Jesus wat die Koninkryk vir die kindertjies oopstel.
Tog, om die een of ander rede moet ons God as ongenaakbaar voorstel. Sodat
dit vir ons kan word soos die oog van die naald waardeur die ryk man die hemel
moet probeer ingaan. (Twee uitlegte word gebruik – die “oog” in die stadspoorte
waardeur ‘n kameel slegs met moeite deurgewurm kon word om aanvalle te
fnuik, en ‘n werklike naald se oog om te wys dit is onmoontlik – op eie stoom kan
ons nie die Hemel ingaan nie, slegs deur die genade van God.)
Een van die interessante aspekte waar die stryd oor God se karakter woed, is die
toutrekkery oor die ou Psalms (Totiusberymings) en die latere (hoofsaaklik TT
Cloete). Dit handel oor ‘n ongeveer 40 Psalms wat in die ou weergawe as
Messiaans beskou is, maar in die nuwe hoofsaaklik na Dawidiaanse konings
verwys.

68
Word die Totius-weergawe gebruik, lat God byvoorbeeld die valleie vol lê van die
lyke van sy vyande. Word die latere gebruik, is dit die handewerk van ‘n
menslike, feilbare, koning. Die voorstanders van die Totius-weergawe het dan
juis in van hul vernaamste beswaardokumente verwys daarna dat die Cloete-
omdigtings (en dus by implikasie die 1983-Bybelvertaling, God van sy
vergeldingskarakter gestroop. Dus, geen Liewe Jesus nie.
Hierdie “begrip” is nog ‘n vulletjie teenoor as dit kom by sake soos die
uitverkiesingsleer en God se Raadsplan. Die wanverstaan hiervan lei tot
fatalisme – ‘n houding van dat niks wat ek doen, kan inwerk of ek ‘n invloed op
gebeure kan hê nie, en nog minder of ek uiteindelik die Hemel gaan betree nie.
Ai, en die tekste wat op die teendeel dui is volop en duidelik, soos dat God nie
koud, of veral lou, verkies nie, maar dat iemand as warm Christen moet leef.
In Nederland is daar nou gemeenskappe waar ondersteuners van die
ChristenUnie langlippie trek omdat die museums wat hul omgewings se
geskiedenis uitbeeld, na onder meer duine se ouderdomme as miljoene jare
strek. Dit strook nie met die opvattings van die jong aarde kreasionisme nie, en
onmiddellik word dit in die media as ‘n stryd tussen wetenskap en Christenskap
gestel.
En tog is dit die Bybel wat juis self riglyne gee vir die verstaan van God se tyd.
(Psalm 90 en 2 Petrus 3). In plaas van om God se liefde te verkondig, probeer
ons namens God Sy oordeelswerk doen ... meer nog, God na ons beeld te bou.
Gaan lees maar Matt 18: 3 - 5.
Nee, ons gaan plaas liewer struikelblokke in mense se pad na die genade van
God. En ook hieroor laat Matt 18 (verse 6 – 9) hom duidelik uit.
Ons gaan immers met dieselfde oordeel geoordeel word as waarmee ons ander
oordeel.
Word gekyk na van die afgode wat die mens al geskep het, soos dié van die
Filistyne en die Asteke, dan lyk dit of die mens van nature neig om ‘n afgod te
skep wat na ‘n slegte stiefma op die ergste lyk, in plaas van ‘n liefdevolle Vader.

Tamils in Sri Lanka – verkiesing tussen die duiwel en die diep blou see
‘n Keuse tussen die duiwel en die diep blou see ... en nou het die duiwel gewen.
Vir Sri Lanka se Tamils het die see nog nooit enige vrees ingeboesem nie. Hul
voorouers het van die Indiese subkontinent gekom, en bande is heen en weer
behou, en dit is van waar af miljoene dollar vir hul onafhanklikheidstryd gekom
het.
Maar in Sri Lanka is die Tamils ‘n minderheid teenoor die einlandstaat se
meerderheid Singalese. Die Singalase, soos ‘n mens uit die naam kan aflei, dui
op die “leeumense”, en dit was daarom nie snaaks dat die Tamils in hul
afskeidingstryd die tier as simbool gekies het nie, en die opstandelinge se
organisasie as die Tamil Tiere bekend sou staan nie.
In die burgeroorlog van meer as ‘n kwart eeu is nie net baie lewens ingeboet nie,
maar ‘n miljoen Tamils bevind hulle nou na raming in die buiteland, veral
Kanada, Brittanje en Australië. Ook Thailand en Suid-Afrika het groot
Tamilbevolkings, en hoewel hul diaspora uit ander eras dateer en hoofsaaklik uit
Indië afkomstig is, is hul steun ook grootliks vir die onafhanklikheidstryd.

69
Na raming het die Tamils in diaspora jaarliks sowat $300 miljoen tot die Tamils
se oorlogspoging bygedra.
Ironies was die steun vir die Tamils se stryd in Sri Lanka nie oral so hoog soos
onder die mense in diaspora nie. Die rede is gewoon dat die Tamil-inwoners self
dikwels onder die tirannieke optredes van die rebelleleiers deurgeloop het, en
gemagtigdes gejag is. In diaspora, met ‘n romantieke nostalgie, is die
grondvlakwerklikhede dikwels onbelangrik. Hierdie verskynsel is nie uniek onder
die Tamils nie. Ook die Ierse Republikeinse Leër, wat in Ierland verbied was, het
baie geld, wapens en morele steun van die groot Ierse bevolking in diaspora in
die VSA gekry. Ook van die Armeniërs in diaspora het baie radikaler ontaard as
hul volksgenote in die voormalige Soviet-Armenië.
‘n Belangrike keerpunt het vir Sri Lanka se Tamils aangebreek toe die regering
van die land alle bemiddelingspogings, waaronder dié van Roelf Meyer, by die
venster uitgesmyt het en besluit het om die konflik militêr te besleg. Dit het
uiteindelik gebeur, maar met dieselfde soort geweld en onderdrukking van
vryheid as wat die mees radikale Tamil-leiers gekenmerk het.
Die ironie is dat die Tamils oor die algemeen, en veral in die buiteland, in die
afgelope presidentsverkiesing hoofsaaklik die kandidatuur van die militêre leier
wat die Tiere verslaan het, Sarath Fonseka, teensinnig gesteun het. Fonseka
het onderneem om aan die Tamils se griewe aandag te skenk. Hy het ook nie
geskroom om die blaam vir oordadige geweld en teregstellings van Tamilleier
wat oorgegee het, asook internernerigskampe waarin glo tot 300 000 Tamils nog
aangehou word, op die regering se brood te smeer nie. Die Tamil National
Alliance, wat min of meer met die RRL se politieke vleuel, Sin Fein, vergelyk kan
word, het byvoorbeeld ook formeel hul gewig by Fonseka se verkiesingspoging
ingewerp.
Die sittende president, wat ook oorweldigend gewen het, Mahinda Rajapaksa,
word as heel onsimpatiek teenoor die Tamilsaak beskou. Sy herverkiesing hou
niks goeds in vir die gesindhede tussen Tamils en Singalese nie, en is met
afgryse deur die Tamils in diaspora ontvang.
Sommer gou is ‘n sambreelliggaam vir Tamils wat hulle vir ‘n Tamilstaat in Sri
Lanka beywer in die lewe geroep, die Global Tamil Forum. Formeel word ‘n soort
regering in ballingskap vir die Sri Lankaanse Tamils beoog. Op die oog af lyk dit
of hierdie groep nou gaan besin oor die verskillende opsies om die Tamilsaak in
Sri Lanka te dien, solank dit die herlewing van die militêre stryd is. Nie alle
Tamils in Sri Lanka is ewe opgewonde hieroor nie, omdat hulle weer die spit
gaan afbyt, terwyl ‘n minderheid in diaspora ook ongelukkig is omdat die vorige
rondte daartoe gelei het dat die gemagtigdes in Sri Lanka erg deurgeloop het.
‘n Ander opsie is om die lande van die wêreld sover te kry om Sri Lanka se
uitvoerprodukte te boikot. Een van die bekendstes is vroue-onderklere.
Die blogger van Herrie se blog, Herman Toerien, se navorsing oor die herkoms
van ‘n Afrikaanse spreekwoord het toe nie dadels opgelewer nie. Hy kry in die
mees onlangse uitgawe van dr. Anton Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle
vandaan kom, krediet vir sy navorsing.
Prinsloo, soos Toerien, verkies die term “moontlik” as dit by die verklaring kom.

70
Volgens Toerien het die gewese Bataafse goewerneur-generaal, Herman Willem
Deandels (met die wisselvorm Daedels), maar min in hierdie pos vermag. Hy het
voor hierdie aanstelling as ‘n Napoleontiese bevelvoerder in Nederland ook nie
veel vermag nie, en na sy plasing uit Batavia, ook nie veel as Nederlandse
goewerneur in Ghana nie. Trouens, Wikepedia verwys spesifiek dat sy ywer in
Ghana nie vrug gelewer het nie (did not come to fruitition).
Die opvatting dat Daendels se werk en idees dadels opgelewer het, is dalk ietwat
oordrewe. Daendels is in Batavia opgevolg deur Jan Willem Jansens van
Jansens en de Mist-faam. Jansens het geen ooghare vir Daendels gehad nie, en
dié afkeer het heel waarskynlik ook in sekere Kaapse kringe posgevat.
Die spreekwoord kan moontlik ook vollediger uitgebrei word. Destyds is die
kleiner eiland, Madoera, gewoonlik in dieselfde asem as Java genoem. Madoera
het die bynaam as die “Eiland van kom en gaan,” wat weer sy herkoms uit die tyd
van Koeblai Kahn het. Die kahns se goewerneurs en amptenare in verafgeleë
besittings, waaronder Madoera, was van handelsvaart afhanklik wanneer hulle
uitgeplaas en teruggeroep is. Die kolonies is dus vir lang tye aan hul lot
oorgelaat, en hul ontwikkeling is deur hierdie praktyke gestrem. Madoera, as
taamlike gevorderde kolonie, is ook deur hierdie “kom en gaan” van regeerders
en amptenare geraak.
Aan die Kaap sou dit dus ‘n klein sprongetjie wees om na die “nikswerd”
Daendels as “Daedels van Komen en gaan,” te verwys.

Druip van bloedpaspoorttoetse fataal


Sportsterre wat nie positief vir verbode middels toets nie, maar wie se
besonderhede op hul “bloedpaspoorte” te groot afwykings toon, kan deelname
aan die volgende Olimpiese Spele ontsê word.
So altans, meen Jaques Rogge, voorsitter van die IOK.
“Ek kan die moontlikheid nie uitsluit nie,” is hy in die media aangehaal.
Die byhou van die bloedpaspoorte, meer algemeen as “biologiese paspoorte
bekend, behels dat sportlui se bloed minstens ses keer per jaar geneem en
ontleed word, en dat vier keer per jaar urinemonsters geneem word. Die
gevolgtrekkings word dan in hierdie “paspoort” aangeteken, en as daar
uitskieters op voorkom, is dit klaar met kees.
Die Duitse skaatser, Claudia Pechstein, is reeds op grond van uitskieters op haar
biologiese paspoort geskors en deelname in Vancouver ontsê. Met die vorige
twee winterspele het sewe deelnemers elk hul bloedtoetse gedruip.

71
Roer Tamils met verkiesing in Sri Lanka?
Die Singalees-oorheersde regering van Sri Lanka leer nou ‘n harde les:
Minderheidsregte word nie oor die loop van ‘n geweer besleg nie.
Dié les word nou hard geleer terwyl Sri Lanka se eerste verkiesing hou sedert die
Tamil Tiere na 26 jaar se stryd militêr verslaan, en van hul opstandige leiers
gestroop is. Minstens vier ontploffings het Jaffna, noordelike bolwerk van die
Tamils op verkiesingsdag geskud.
Met hierdie nuus wat die wêreld ingestuur word, blyk dit dat dit maar die jongste
dade van geweld was. Die afgelope maand het vier mense reeds in voorvalle van
politieke moord omgekom, en is sewehonderd gevalle van geweld by die polisie
aangemeld.
Formeel is die oorsaak vir die geweld te vinde in die stryd tussen twee
presidentskandidate, pres. Mahinda Rajapakse en die oorlogsheld, Sarath
Fonseka. Een van die onlangse bomaanvalle was juis by die huis van ‘n
sakeman wat Fonseka steun.
Pres. Rajapakse ontken dat hy of sy ondersteuners agter die aanval op sy
opponent sit. In dié stadium glo min mense hom egter, aangesien so ‘n aanslag
en die algemene geweld te wagte was in die lig daarvan dat hierdie verkiesing as
een van die vuilstes ooit beskou word.
Dit is nog moeilik om te bepaal of die Tamils nie dalk tog die geleentheid benut
om sake verder te roer nie. Hul omstandighede bly moeilik sedert hul militêre
neerlaag, en met wye steun vir hul saak onder Tamils en ander simpatiserende
groepe in Indië, en Tamils in diaspora wêreldwyd, twyfel min dat die Tamils
bykans oornag weer ‘n militêre vermoë sal kan opbou.
Fonseka, wat die bevelvoerder teen die Tamils was, ontpop nou in ‘n sekere sin
as kampvegter vir die Tamils. Hy beskuldig die regering, en dus sy opponent, dat
hulle die teregstelling van Tamilleiers beveel het wat hulle oorgegee het. Verder
sê hy die regering sleep voete met die vrylating van 300 000 Tamils uit
interneringskampe. Die Tamils is dus minstens onregstreeks ‘n belangrike
rolspeler in hierdie stryd.
Die Tamils, ‘n minderheidsgroep in hoofsaaklik die noorde van die eilandstaat,
het nouer, irredentistiese aansluiting met hul volksgenote in Indië gesoek, waar
die Tamils een van die groot bevolkingsgroepe is.
Afgesien van die taalverskille met die Singalese, is die Tamils hoofsaaklik
Hindoes, terwyl die Singalese bykans uitsluitlik Boeddhisties is. Beide die Tamils
en Singalese is immigrante uit Indië wat die oorspronklike bewoners verdring het.
Sri Lanka is berug vir sy gebrekkige persvryheid – in ‘n groot mate juis om
inligting uit die voormalige oorlogsones en dissidentegebiede te smoor – en dit is
dus baie moeilik om te bepaal of die Tamils steeds so sonder skop is wat
voorgegee word.

72
Integrasie in Nederland: Sukses of nie
Die antwoord op hierdie vraag, so wil dit voorkom, hang af van wie dit
beantwoord. Beide diegene wat meen dit gaan goed of sleg met die integrasie
gebruik syfers om hul menings te staaf.
Hoe uiteenlopend die menings kan wees, blyk uit die jongste internetuitgawe van
Trouw, ‘n Nederlandse gedrukte dagblad. Op dieselfde webbladsye verskyn
artikels wat redelik uiteenlopend reageer. Dorien Pels se artikel Bij sollicitatie
wordt Surinamer vaker afgewezen dan Marokkaan skets die proses
problematies, terwyl ‘n boek-vooruitskouing van ‘n boek, Hoezo Mislukt? deur
Frans Verhagen, die ligpunte belig.
Pels wys daarop dat ’n ondersoek aan die lig gebring het dat Surinamers, wat
onder die “allochtonen” (nie ‘n paar geslagte gebore Nederlanders nie) die
topposisie onder uitnodigings vir werksonderhoude, nou deur die Marokkane
verbygesteek is. Allocchtone as geheel se uitnodigingskoers is in ieder geval 37
persent teenoor 44 persent vir autochtone (paar geslagte gebore Nederlanders).
Die aanduiding dat Marokkane nou in groter aanvraag as Surinamers is, kom as
verrassing aangesien die Marokkane ‘n reputasie as probleemgevalle het.
Hierdie reputasie het hulle danksy negatiewe joernalistieke beriggewing
opgedoen. Nou word allerlei verklarings gesoek.
Die ondersoek is juis gedoen op ‘n manier om verwarring oor die aansoekers se
identiteit duidelik te maak. Die proefgroep het vir werklike vakatures aansoek
gedoen, en hulle is gehelp om onberispelike aansoeke in te dien. Omdat
Surinamers en immigrante uit die Antille gewoonlik tipiese Nederlandse name
het, is hul geboortedorpe soos Paramaribo of Willemstad ingevoeg.
In die ontleding oor die oorsake word die woorde “diskriminasie” en die redes
daarvoor vrylik gebruik, kwalik ‘n logiese aanloop tot die lees van die
boekvooruitskouing. Hierdie berig se opskrif is: “Integratie is uitstekend
gelukt.”
Verhagen baseer sy stelling op toenames van “allochtonen” by universiteite en
die werkplek. Tog lê hy baie klem op die relatiewe sukses teenoor die suksesse
of dan mislukkings in ander lande.
Talle opstootjies soos by sokkerwedstryde laat hom nietemin tot die
gevolgtrekking kom dat Nederland ‘n probleem met die jonges het. En dié
probleem, skryf hy, moenie net by die Marokkaanse jeugdiges gesoek word nie.

Nuuskommentaar: Neus in ander se sake


Met ‘n reuse internasionale hulpaksie op die rampgeteisterde Haïti gefokus, het
die VSA opnuut in sekere kringe onder skoot gekom as synde ‘n imperialistiese
land wat sy neus ongevraag in ander lande se sake steek. Dié keer het verskeie
regeringsleiers tot die VSA se verdediging ingetree en daarop gewys dat die
hulpaksies sonder die VSA onbeduidend sou wees.
In talle lande waar interne spanning manifesteer, word gedesentraliseerde
regeringsvorme as moontlike oplossing voorgehou. Een hiervan is federalisme.
Die VSA is in talle opsigte ‘n rolmodel vir federalisme. Met federasievorming het
die deelnemende state hul soewereiniteit oor bykans alle regeermagte behou, en

73
slegs enkele aspekte aan die federale regering afgeteken, waaronder
verdediging, buitelandse sake en sekere maatskaplike aangeleenthede.
Die gevolg is dat sommige deelstate die doodstraf toepas, en ander dieselfde
grondwet so uitlê dat dit ongrondwetlik is. Oor die afgelope paar jaar het bykans
elke deelstaat rug styfgemaak, hetsy deur wetgewing van hul staatsregerings,
hetsy deur staatsreferendums of deur hofuitsprake, om gay-huwelike te verbied.
Die gevolg van hierdie federale manifestasie is dat die VSA oor ‘n groot en
magtige regering, bestaande uit ‘n uitvoerende president, ‘n senaat en huis van
verteenwoordigers beskik wat oor min sake seggenskap het. Weens verskeie
faktore, soos ‘n groeiende Amerikaanse identiteit, het die sentrale regering sy
impak op binnelandse aangeleenthede via die venstertjie van sekere
maatskaplike aangeleenthede, al groter oopgewring. Pres, Barack Obama het
pas ‘n lang stryd deur die kongres gevoer om ‘n bekostigbare
gesondheidsorgstelsel vlot te kry. Hoewel hy hier sekere konsessies oor
aborsieregte teen Christengroepe moes maak, het hy deur ‘n strategiese
aanstelling op die federale regbank gesorg dat die VSA se stryd teen aborsie op
aanvraag – volgens ‘n onlangse peiling die meerderheid Amerikaners – na
raming sowat 20 jaar teruggesit is.
Verskeie deelstate het trouens voor Obama se verkiesing reeds wetgewing in
plek begin sit om in pas te wees wanneer die hoogste hof die uitspraak van
Wade v Roe, waarkragtens aborsies gewettig is, tersyde sou stel.
Aborsiekliniekbase het op Indiaanse reservate toegesak om in daardie gebiede
aborsieklinieke binne die state wat aborsies op aanvraag sou verbied op te rig,
omdat die reservate wat hierdie aspek betref, onder regstreekse federale
wetgewing val.
Hierdie aspek toon ook hoe kompleks die federale regeervorm in die VSA in
werklikheid is.
Tog, buite die VSA hoor ‘n mens selde indien ooit van enige ander ministers, as
die Secretary of State en die Secretary of Defense, onderskeidelik die ministers
vir buitelandse sake en van verdediging.
Dit is ‘n noodwendige gevolg dat die VSA, of enige staat wat ‘n soortgelyke
grondwet het, baie aktief buite sy grense sou wees. Indien nie, sou die Wit Huis
en kongres nie veel meer as wit olifante gewees het nie.
Hierdie werklikheid het al baie positiewe verwikkelinge, soos die Camp David-
vredesberaad opgelewer, hoewel kenners destyds reeds gewaarsku het dat die
elemente van mislukking ook ingebou is soos om die Palestynse kwessie in ‘n
bylaag in die lug te laat hang.
Moderne tegnologie, vinnige lugreise en kommunikasie het die wêreld tot ‘n
neutedop laat krimp, en so die VSA se reikwydte tot ver buite die grense van die
Monroe-leer laat rek. Omgekeerd het dit wat die VSA se belange raak, ook as
bedreiging binne trefafstand gekom, en die binne die VSA se vermoë om iets
daaraan te doen. Die VSA se beste belange was nie altyd noodwendig dieselfde
as ander lande se beste belange nie, en dikwels is ‘n wig ingedryf.
In Suid-Afrika het die sentrale regering die finale sê oor alle uitvoerende magte,
en is dit dieselfde regering wat op plaaslike vlak manifesteer en riool die strate

74
laat afloop, wat ook besluit om bande van wisselende vlakke van vriendskap met
die wêreld se muishondlande soos Kuba, Venezuela en Noord-Korea te smee.
Dit kan as kwalik bevorderbaar vir Suid-Afrika se buitelandse belange met die
VSA se bondgenote en lande wat ‘n beleid van realpolitik volg, beskou word.
Suid-Afrika, via onder meer USAid, is juis een van die groot ontvangers van hulp
uit die VSA.
‘n Paar lesse van die internasionale politiek staan soos pilare in die stroom: Die
regeervorm wat ‘n bevolking kies het implikasies na buite. In die internasionale
politiek het lande slegs belange, nie vriende nie, en in die internasionale politiek
is alle state gelyk en ongelyk tegelyk.
Wanneer ‘n regering van ‘n heterogene land, soos in Suid-Afrika, tegelyk
binnelands en buitelands regeer, moet die implikasie in gedagte gehou word dat
‘n buitelandse beleid wat onaanvaarbaar vir sekere binnelandse groepe sal
wees, tot die polarisasie tussen daardie groepe sal bydra. ‘n Kortstondige
adjunk-minister van buitelandse sake het in die afwesigheid van die minister ‘n
ongehoorde sterk pro-Palestynse standpunt teen Israel ingeneem. Dat sy self ‘n
Moslem is, het waarskynlik haar oordeel meer beïnvloed as wat die realiteit dit
beïnvloed het. Met die eerste kabinetskommeling het sy in die slag gebly. Hierdie
verstellings is egter te min.

Herrie se kerrie: Kortstondige skool


Na aanleiding van Herrie se vertelling van skooleskapades laat weet vriend
Hennie van nog so ‘n misverstand.
Sy seun, Bennie, vertel hy, is soos gebruiklik vroegoggend deur sy ma by sy
Graad 1-klassie afgelaai.
Dié dag was Bennie egter reeds tienuur te voet terug van die skool af.
“En nou?” wil ma weet.
“Ai, ons was net aan die gang, toe roep die hoof vir juffrou oor die interkom en sê
sy moet haar rooster saambring kantoor toe. En ma weet self hoe hou lank ‘n
braai van die onnies aan toe kom ek maar solank huis toe.”
Herrie was darem self in ‘n paar klasse waar op misverstande van die onnies
geteer is.
By Herrie se aanvanklike skool – ‘n seunskool op ‘n universiteitsdorp en wat as
prestige skool beskou, is vreeslik graag afgetrede inspekteurs as
aflosonderwysers aangestel. Dit, na Herrie se beskeie mening, was dikwels
eerder chaos as ‘n sukses.
Destyds was dit die Tulbach-aardbewing, en die Herries se dorp is self maar
taamlik geskud. So kwaai, ‘n mens kon die naskokke al van ver af hoor kom – so
‘n soort dreungeluid. By die een afgetrede inspekteur, wat klas in ‘n buitegebou
gegee het – amptelik bekend as die demostrasieklas, maar wat onder die
leerlinge as die detensieklas bekend gestaan het – was dit maklik om die klas te
ontruim as ‘n mens ‘n aardbewing hoor kom het. Die dreuning van bykans
enigiets soos ‘n vragmotor het gedeug om die klas te ontruim as mens nou nie
meer lus vir klas was nie. Dit was so vier keer per periode.
By ‘n ander afgetrede inspekteur het ‘n paar nie-bestaande spreeus in die dak
(sy klas was op die onderste verdieping en baie ver van die dak af), by die

75
skoolhoof in die sop beland oor hul geraas. Die geraas was in werklikheid van
Ollie se lagmasjientjie afkomstig, maar toe die onnie toeslaan op die geluid het
dit meer aangewese geklink om die spreeus die sondespreeus te maak, eerder
as om Ollie en sy masjientjie na die skoolhoof se kantoor toe te laat stuur.
Die grootste wegkom was egter by ‘n ander afgetrede inspekteur, wie se klas op
die boonste verdieping was. Die sonnetjie het lekker by die vensters ingeskyn, en
Charl se witbroek (ja, ons destydse LO is in wit kortbroeke gedoen) het op sy
bank in die sonnetjie gelê. Charl het iewers ‘n halwe stompie opgetel. Hiermee
het hy in die klas opgeskeep gesit, tot hy merk Steyntjie reg agter hom sit
verveeld en gaatjies met ‘n vergrootglas in sy bank en brand. Twee en twee is
vier, en toe trek Charl lustig teue in die klas.
En toe word die onnie wakker en hy gaan loop ‘n draai deur die klas. Charl druk
die rokende stompie onder sy bank in.
Gelukkig vir hom het die onnie self kwaai gestook, en na twak gestink, dus lei hy
af dis die witbroek wat nat in die son stoom. Hy steek vas, bekyk die “stoom” wat
so optrek en sê Charl aan om die witbroek te bêre.
Gelukkig het Herrie darem skool in die Vrystaat kom klaarmaak.

Ramp in Haïti: Straf van God weens voedoe?


Dié vraag duik op, veral na ‘n Amerikaner glo aangedui het die ramp is God se
straf omdat mense in Haïti die vodoeïsme aanhang.
Soos so dikwels gebeur, is die eerste slagoffer die waarheid, gevolg deur
vreemde teologiese uitlegte.
Ek maak hierdie stelling teen die agtergrond dat ek die afgelope week ook een
van my mees fatalistiese ontmoetings gehad het – iemand wat glo die Christen
moet die lewe geniet omdat God se Raadsplan alles in elk geval vooraf beskik.
Wat die teologiese siening rondom Haïti betref: God laat dit reën oor die goeies
en die slegtes.
Dit is geen fatalistiese handevouery nie. God kan, en het reeds natuurrampe
aangewend om mense tot bekering of inkeer te laat kom, soos in oorle Jesebel
se tyd toe koning Agab, onder invloed van Isébel , Baal-aanbidding ingevoer het.
Baal was, ironies, die afgod vir reën en vrugbaarheid, en ‘n droogte sou die mees
gepaste wyse wees om op die voete van klei te dui.
Kyk ‘n mens na die mees dramatiese rampe in die moderne geskiedenis, soos
tifone, tsunami’s, aardbewings, vulkaniese uitbarstings en oorstromings dan kom
oorwegend nie-Christenlande soos Mjanmar (Boeddhisties), Thailand (ook
Boeddhisties), Maleisië en Indonesië (Islam) en Turkye (Islam) op die
radarskerm.
Die Christen se reaksie is nie ‘n hande-gevou nie, maar om met deernis die
ongewone sendinggeleenthede te benut. Die eerste hulpagentskap uit Suid-
Afrika wat na die ramp in Haïti met daad en middele toegetree het was die Gift of
the Givers, ‘n Moslemorganisasie. (Hieronder is ‘n artikel uit my pen met die titel
“My perspektief as Christen op die verwoestende sikloon in Mjanmar” wat as deel
van ‘n versameling artikels van verskillende outeurs oor hierdie onderwerp in Die
Kerkblad verskyn het).

76
Kyk ‘n mens na Haïti kyk ‘n mens na ‘n uiters komplekse, maar hoog
interessante geskiedenis van godsdiensontwikkeling waar feite en fiksie nie altyd
maklik van mekaar te skei is nie. Vergun my dus om sonder enige kwade
bedoelings die ruim, romantieke geskiedenisweergawe op te dis.
Dié weergawe begin in die bewindstyd van koning Mansa Abubakari II wat in
1312 as monarg van Mali aan bewind gekom het. Hierdie antieke Mali se grense
het nie volkome met dié van moderne Mali ooreengestem nie, met die
vernaamste verskil dat die antieke Mali ‘n kusstrook gehad het wat min of meer
met die huidige Senegal ooreenstem.
Volgens antieke Moslemverslae uit Egipte het die koning ook ‘n ideaal gehad om
die buitenste grens van die Atlantiese Oseaan vas te stel. Hy het ‘n aanvanklike
ekspedisie van 200 skepe uitgestuur, waarvan net een teruggekeer het. Dié
kaptein het vertel van die skepe wat in ‘n maalstroom ter see verdwyn het. Die
koning het vervolgens besluit om self te gaan ondersoek instel, ‘n waarnemende
koning aangewys (die meeste bronne sê hy het geabdikeer) en met ‘n vloot van
2 000 skepe vertrek.
Sy opvolger was die bekende Mansa Musa I wat Mali tot sy hoogtepunt uitgebrei
het, en die reeds groot grondgebied ongeveer verdubbel het.
Abubakari het nooit teruggekeer nie (hoewel legende dit wil hê dat hy een keer
vir ‘n Hadj teruggekeer het, maar dat met sy terugkeer na die Amerika’s nie weer
van hom gehoor is nie).
Die belangrikste bewyse dat een of beide die ekspedisies uit Mali die Wes-
Indiese Eilande en moontlik ook die vasteland bereik het, is aantekeninge van
Columbus self dat hy items van Wes-Afrikaanse herkoms by van die inboorlinge
aangeskaf het, en Negroïdeskedels wat gevind is wat na ongeveer hierdie
tydperk terugdateer. Columbus het ook ‘n taamlik heterogene beskrywing van
inboorlinge op die Wes-Indiese Eilande verskaf, onder meer – volgens hom -
reuse. Een van die inboorlingstamme aan die kus van Sentraal-Amerika het ook
sterk Negroïdekenmerke. Sommige bronne dui selfs aan dat inskripsies in ‘n ou
Berberskrif gevind is.
Dit is heel moontlik dat Columbus ook nie verbaas sou wees om tekens van
beïnvloeding uit Wes-Afrika te vind nie. Dit word vandag wyd geglo dat
Columbus tydens ‘n besoek aan Ysland reeds van die bestaan van die Amerika’s
bewus geword het na aanleiding van Vikinkolonies in Vinland 500 jaar tevore.
Columbus het vervolgens intensiewe navorsing in bronne in Rome gaan doen
waar verskeie geskrifte reeds na die Nordiese ontdekkings verwys het.
Dat hierdie geskrifte bestaan het, is te wagte in die lig daarvan dat die persoon
wat die meeste krediet vir die Viking-ontdekkings en kolonisasie in Labrador kry,
Leif Erikson, ‘n lid van die eerste generasie Christene onder die Vikings was.
Lief, die seun van Erik die Rooie, was egter nie die eerste Nordiese ontdekker of
kolonis van Vinland nie. Hy was self nie betrokke by die eerste ernstige
koloniestigting in 1007 deur Christene in Vinland nie.
Rome het selfs ‘n Biskop vir Groenland en Vinland aangestel. Van die Vinlandse
weduwees, onder meer dié van die stigter, en suster van Leif, het na haar man
se dood ‘n ruk in Rome gaan woon, soos die gewoonte destyds was.

77
Net so was Ibn Fadl Al-Umari van Egipte se gepubliseerde werke, soos Masalik
ab Absar fi Mamalik al Amsar waarin in hoofstuk 10 na koning Abubakari se
ekspedisies verwys word, in redelike omloop.
Die lastige vraag oor hoekom, as die Nuwe Wêreld bereik het, daar dan geen
teken van die Moslemgeloof oorgebly het nie, en eintlik ook nie van die Arabiese
taal nie.
Die antwoord is eenvoudig dat, hoewel Mali destyds formeel ‘n Moslemryk was,
aanvanklik in effek net die heersersklas werklik Moslems was. Die breë publiek
was nóg Arabies, nóg Berber, en het nog lank hul animistiese godsdiens en veral
gebruike beoefen. Hoewel die Islam in beginsel meer verdraagsaam teenoor
Christen en die Joodse godsdiens is as teenoor ander godsdienste was, en dan
bekering tot die Islam afgedwing het, het animistiese gebruike onder Moslems in
lande soos Indonesië, Indië en elders ritse godsdienopvolgings – gewoonlik
Boeddhisme, Hindoeïsme en dan Islam, oorleef en steeds neerslag gevind.
Vervolgens moet aanvaar word dat beide ekspedisies se aanduidings van eers
200 en later 2 000 skepe waarskynlik erg oordrewe was. Skeepvaartaktiwiteite
van hierdie omvang sou ‘n Arabiese hawe in die omvang van die ou Dar es
Salaam of Mombasa vereis het, en dan sou skeepvaart waarskynlik as die hoof
handelswyse met die buitewêreld geskied het. Die aanduidings is egter dat dit
feitlik uitsluitlik met kameelroetes was.
Nietemin, dit is onwaarskynlik dat veel meer as ‘n handjievol van die opvarendes
van enige van die reise – en dan waarskynlik slegs van die bevelstruktuur,
werklike Moslems sou wees. Die res sou nie veel verskil van die Negerslawe wat
gedurende latere Europese kolonisasie uit Wes-Afrika weggevoer is nie.
Dit is dus heel verstaanbaar dat enige oorlewendes, veral na ‘n moontlike
muitery, by aankoms in die Nuwe Wêreld, by die inheemse bevolkings en hul
animistiese godsdiens sou inskakel. Die impak wat hulle wél op die plaaslike
bevolkings sou hê sou meer waarskynlik animisties as Islam van aard wees.
Die herkoms van Voedoe word ook na Wes-Afrika teruggevoer, en meer
pertinent die hedendaagse Benin waar geraam word meer as 60 persent van die
bevolking hierdie praktyk as godsdiens beoefen, en dit in 1996 ook as ‘n
godsdiens erken is wat amptelike beoefen kan word.
Voedoeisme word as ‘n baie ou “godsdiens” beskou, selfs moontlik 10 000 jaar
oud. Dit was wyd verspreid in Wes-Afrika teen die tyd dat Abubakri se
ekspedisies na die Karibiese gebied plaasgevind het en dis trouens
onwaarskynlik dat daar nie aanhangers onder die bemanning was nie.
Wat die herkoms van voedoeisme in Haïti betref, is historici dit nie eens nie. ‘n
Weergawe dat dit net via Negerslawe van die Franse besetters die land ingekom
het na die Spanjaarde die Indiaanse inboorlinge deur slawe-arbeid in myne
effektief uitgewis het, is skynbaar ‘n oor-vereenvoudiging. Volgens aanduidings
was voedoeoïsme reeds wyd verspreid op die eilande in die gebied.
Voedoeïsme se verspreiding na New Orleans het egter heel waarskynlik uit die
latere Franse koloniale tydperk gekom, hetsy regstreeks uit Afrika, maar weens
die Karibiese manifestasie daarvan, via die Franssprekende Karibiese kolonies
soos Haïti.

78
Die sterker oorlewing van voedoeïsme in Franssprekende gebiede word
toegeskryf aan die “aanklank” wat dit in Rooms-katolieke praktyke vind, en
dikwels geïntegreer word. In beginsel sou dieselfde dus in Spaansprekende
gebiede moes plaasvind, maar dit is minder opmerklik.
Is dit dan herleibaar na straf deur God?
Die jongste standpunte hieroor word herlei na ‘n ooreenkoms wat volgens
oorlewering met die duiwel aangegaan is om van die Franse koloniale besetters
ontslae te raak. (My navorsing dui nie feitelikhede ten gunste van of teen dié
weergawe aan nie). Dit is egter so dat die inwoners afgesien van enige moontlike
manier, soos guerrilla-oorlogvoering en “voedoe-toorkuns,” en hierby
aansluitend, vergiftiging gebruik gemaak het om die Franse te verdryf.
God laat dit oor die goeies en die slegte reën. Oor vyf jaar vier die Armeniërs die
volksmoord wat hulle aan die hand van Attaturk se magte ondergaan het en
meer as ‘n miljoen gesterf het. Hierdie uitwissing en grondroof (hul
hartlandgebiede was binne die teenswoordige Turkye (artikel onder die
Armeense artikel)), kan beswaarlik vertolk word as God se straf nadat die
Armeniërs eeue lank as buffer teen Moslemuitbreiding gedien het, en die
Armeense staat aan die Middellandse See as bondgenoot van die Kruisvaarder-
koningkryke gedien het.
Wat ons wel weet is dat hierdie natuurrampe die geleentheid aan Christene bied
om deur Christelike optredes en die Woord die Evangelie te versprei.
Rampe manifesteer nie net deur skouspelagtige gebeure soos aardbewings en
tsoenami’s nie.
Stil-stil is outisme besig om ‘n selfs groter ramp te word. Waar ses uit 10 000
geboortes in 1991 outisties was, is dit nou in die orde van 100. Die plafon is
volgens aanduidings nog nie bereik nie. As die gemiddelde lewenskoste van
iemand met outisme sowat $3 miljoen oor sy leeftyd is, kan die sommetjie maar
gemaak word oor die totale koste vir die wêreld.

Godsdiensonderrig in Duitsland na Moslems uitgebrei


Die grondwetlike bepaling in Duitsland dat staatskole godsdiensonderrig moet
aanbied, word nou op ‘n proefgrondslag na die land se sowat 90 000 Moslem-
skoolkinders uitgebrei.
Hoewel skole verplig word om godsdiensonderrig aan te bied en dit ook ‘n
eksamenvak is, word leerlinge nie verplig om die vak te neem nie.
Die oorsprong van hierdie bepaling dateer uit die na-Nazi-era toe besef is dit is
nodig om morele waardes by Duitse kinders te kweek.
Protestantse en Rooms-Katolieke instellings help met die opstel en toepassing
van die leerplanne, en sedert 2003 is dit ook na die Joodse godsdiens uitgebrei,
en sinagoges betrek.
Nou word dit versigtig na die Moslems uitgebrei. Godsdiensryheid en
minderheidsregte vorm ‘n sterk deel van die Christen-demokratiese leerstellings
uit, en Duitsland word nou deur ‘n regering regeer waarin die CDU die grootse
party is. Die CDU se vereiste is egter, soos uitgespel deur die vorige sekretaris-
generaal, Roland Pofalla, dat Duitsland sy karakter gebaseer op sy Christelike
tradisie moet behou, en as Christenland moet voortbestaan.

79
Verskeie redes word aangevoer, soos dat dit help dat Moslems Islam deur ‘n
westerse bril beoordeel en ervaar. Dit, word gemeen, is verkieslik bo ‘n stelsel
waar Moslemkinders hulle tot godsdiensonderrig buite skoolverband moet rig, en
die aanbieders dikwels ‘n bedenklike motief het.
‘n Interessante gewaarwording is dat dit weens interne verskille tussen Moslem-
groeperings makliker gesê as gedaan is. Duitsland se Moslembevolking is nie
homogeen nie, met Soennies, Sjiïte, Alawiete en aanhangers van die Suid-
Asiatiese Ahmaddiyya-sekte.
Dit word verder gekompliseer deur die Moslems se lande van herkoms, waar die
Turkse Moslems oor die algemeen ‘n minder fundamentalistiese karakter
openbaar en kopdoeke onder vroue seldsaam is, met ‘n meer tradisionele
benadering wat dikwels met Moslems uit Arabiese lande kom. Boonop sien
Moslem-meisies dat die Duitse seuns en meisies bykans alles geoorloof is,
terwyl dit in die Moslemtradisie net die seuns beskore is. Hierdie heterogeniteit
skep vir die owerheid grys hare om ‘n behoorlike, goedgekeurde leerplan op te
stel. Sowat 250 leerkragte bied reeds landswyd Moslem-godsdienslesse in Duits
aan.
Verwerk uit: Christian Science Monitor

Nuuskommentaar: Rooi ligte oor persvryheid


Verskeie onrusbarende gebeure loop nou saam om ‘n skadu oor Suid-Afrika se
vlakke van mediavryheid te werp. In sommige gevalle is die verwikkelinge
kompleks en in ander gevalle doodgewoon blatant.
Onder die blatante verwikkelinge is die wetsontwerp op die Openbare
Uitsaaiwese. Hiervolgens word die SABC en sy raad onder die regstreekse
gesag en dissipline van die minister geplaas. Die nuwe uitvoerende hoof van die
SABC het ook reeds openlik verklaar dat hy aan die minister verslag gaan doen,
in stryd met huidige wetgewing. Onder die huidige bedeling was die gesag van
die veelparty-parlement dikwels nie genoegsaam om die SABC in staat te stel
om onbevange as openbare uitsaaier op te tree nie.
Tereg vra die gedrukte media dat hierdie wetsontwerp van die tafel geveeg word.
Terselfdertyd is daar ‘n nuwe beleid vir mediakommunikasie in die Nasionale
Vervolgingstelsel, kort na ook hierdie instelling ‘n omstrede politieke aanstelling
aan die hoof op die lyf geloop het.
Groot ontsteltenis heers ook oor die druk – insluitend regstappe – wat teen E-TV
gedoen word om die identiteit van misdadigers te openbaar wat op die lug
aangedui het dat hulle beplan om besoekers aan die Wêreldbeker-
sokkertoernooi aan te val. Hierdie geval is soos ander waar die regsbelange van
verskillende mense teen mekaar opgeweeg word, baie moeiliker om te
beoordeel.
Dit herinner aan die sogenaamde sletlys wat iemand op Mixit geplaas het, en
Mixit die identiteit van hierdie misdadiger – kriminele laster is steeds ‘n strafbare
misdaad in Suid-Afrika – beskerm het weens sy reg op privaatheid. Dit is ook
moeilik om te verstaan hoe die Mixit-base ‘n wurm se reg op privaatheid hoër kan
stel as sy slagoffers se reg op waardigheid.

80
Die regering argumenteer skynbaar nou dat die misdadigers se reg op
privaatheid en uitdrukkingsvryheid nie opgeweeg kan word teenoor ander se reg
op lewe en veiligheid nie. Die sensitiwiteit word heel duidelik aangeblaas omdat
dit met die sokkertoernooi in verband staan.
Die ironie is dat die heftigste kritiek op die regering
se optrede teen E-TV van mediagroepe kom wat self
is baie kringe daarvan verdink en openlik beskuldig
word dat hulle self ernstige perssensuur toepas om
eie politieke agendas te bedryf. Die ironie verdiep as
aangevoer word dat outokratiese mediasensuur
ingespan word om ‘n liberale agenda te bevorder –
iets wat in beginsel en in wese lynreg teenoor
mekaar staan.
Ongelukkig is dit nie so maklik om hierdie aansprake
sonder meer van die tafel te vee nie. Pas het ‘n
politieke verslaggewer van ‘n groot koerant versoek dat ‘n politieke party hom,
die verslaggewer, van die party se mediaverspreidingslys afhaal. Presies
dieselfde verslaggewer is pas wyd – op die internet – die kop gewas nadat hy sy
kop in ‘n politieke byenes gaan steek het deur self politieke akteur te word op ‘n
terrein waar hy duidelik nie genoeg agtergrondkennis van gehad het nie.
Die verdere ironie is dat sy koerant in elk geval uiters snoep was in die gebruik
van daardie party se nuusverklarings – altyd tweetalig - , terwyl die einste
nuusverklarings op ‘n feitlik daaglikse basis wyd oor veral radionuusdienste en
gereeld in die Engelse nuusmedia gebruik word.
Oor die afgelope dekade het Suid-Afrika geleidelik die kreeftegang gegaan op
die internasionale persvryheidsindeks, maar in die 2009-verslag weer ‘n klein
bietjie kop opgetel. Hierdie effense verbetering was ietwat onverwags omdat dit
gekom het te midde van ANC-planne vir ‘n soort mediatribunaal en omstrede
wetgewing.
Die resultaat bly nietemin dieselfde, Suid-Afrika is lankal nie meer die mees
persvrye land in Afrika nie, met lande soos Ghana en Mali wat beter vaar. En
Afrika as geheel vaar swak op die indeks.

Nuuskommentaar: Wilders uit die Wildernis?


Met die oë van die wêreld steeds op die aardbewingramp in Haïti gerig, bied ‘n
gebeurtenis wat hom van vandag af in Nederland afspeel, in daardie land sterk
kompetisie vir nuus uit die rampgebied.
Die verhoor van Geert Wilders, leier van Partij voor de Vrijheid, begin vandag.
Die naaste raakvlak met die Suid-Afrikaanse reg sou daarop neerkom dat hy van
haatspraak jeens Moslems aangekla word.
Terwyl Nederlanders die naarheid in is, getrou aan Wes-Europese tradisie, oor
elf Nederlanders wat steeds in Haïti vermis word, steel Wilders se saak
vanoggend die kollig.

Terwyl dit wat Wilders oor die Moslems en die Koran kwytgeraak het, soos om
na die Koran as ‘n fascistiese boek te verwys, erg is, is die gevoel nogtans wyd

81
dat sy vervolging eerder polities as juridies is. Die praktyk lyk wel effens anders –
die Openbare Ministerie het geweier om hom te vervolg, en die vervolging
geskied nou in opdrag vanuit die regbank self.
Wilders self verwag vryspraak. Of sy verwagtinge met die werklikheid strook, is ‘n
ander vraag.
Tot sy krediet moet vermeld word dat hy ten spyte van sy vry sê nog nooit
geweld teen die teikens van sy argwaan geuiter het nie.
Trouens, Wilders se saak kom te midde van ‘n redelike wye verset teen Moslems
se skynbare aandrang op gelyke regte geskoei op iets wat op iets hoër as
gelykheid neerkom. Pas het ‘n Moslemparty in Nederland gevra dat afsonderlike
swemtye by openbare plekke vir mans en vroue ingestel word, omdat dit
Moslemtradisie is.
Die reaksie was min of meer: As jy ‘n Nederlander wil wees, val jy by
Nederlandse tradisie in.
Die Nederlandse regering is ook getrou aan sy eie grondwet. Toe Brittanje
aanvanklik besoekregte aan Wilders geweier het, het Nederland sy rug
styfgemaak. Toe Turkye langlippie raak oor Wilders se insluiting in ‘n
parlementêre afvaardiging wat Turkye gedurende die Kersvakansie sou besoek,
is die besoek afgelas eerder as om Wilders uit die afvaardiging weg te laat.
Intussen het Wilders se party in gewildheid gegroei, en is volgens peilings nou
die tweede sterkste party in die land. Die verwagting is dat die hofsaak sy
gewildheid gaan versterk.
Die Nederlanders wil nie vreemdelinge in hul eie land word nie, en nog minder
deur Moslemgebruike gyselaar gehou word. Wilders se saak het reeds in
simboliese waarde sy belang op die ontwikkeling van regspraak oor die
sensitiewe immigrantekwessie geword.
Terwyl die debat waarskynlik nog sterk deur ‘n tradisie van sensitiwiteit oor
politieke korrektheid oor die saak geïnhibeer word.

82
Om Nederlands deur ‘n Afrikaanse bril te lees laat die lense toewasem
Omdat Afrikaans en Nederlands al ‘n paar eeue min of meer hul eie koers loop,
is verwarring in woordeskat te wagte. Soms met humoristiese gevolge.
As eerstejaar met ‘n Nederlandse voorgeskrewe boek in Stedelike Geografie het
dit kopkrap gekos om uit te pluis die alewige “vaak “ in die handboek het niks te
make met ‘n eerstejaar wat die nag sittend op twee bierblikkies deurgebring het,
nie.
Of die Nederlandse besoekers aan huise wie se dogter in vervoering geraak het
toe Sus se “fraaie” kat die vertrek ingestap kom. Haar ousus het haar uitroep oor
die wandelende gedroggie met ‘n harde, strategiese “kat!” gesmoor.
Of as mens lees van die Palestyne wat die Israeli’s so met “raketten” bestook.
Of selfs al die verskillende “versies” wat oogetuies van ‘n bomontploffing opdis.
Jare gelede het ‘n kennis van wyle Pa-Jan ‘n doktorsgraad in Nederland gaan
doen, en terwyl hy daar was solank ‘n tikster aan die werk gesit om met die
tikwerk te begin.
Fout.
Want die instansie wat die “hoofrol” in sy tesis gespeel het, is vernederlands, en
het dus ‘n “hoofdrol” gespeel – iets wat in Afrikaans en Nederlands kwalik iets
verbandhoudend kan beteken.
Dié staaltjie skiet my vanoggend te binne toe ek die volgende in Trouw te lese
kry, waar die “d” toe wel sy Afrikaanse betekenis vervul:
Schadevergoeding na val door hondendrol
MARSEILLE (ANP) - Het stadsgewest Marseille moet een schadevergoeding
betalen aan een vrouw die in 2001 uitgleed door hondenpoep op de stoep en
daardoor een botbreuk opliep. Dit heeft het gerechtshof in Marseille bepaald.

Herrie se kerrie: Die grootmenskartel se skolesameswering


Die Herries se kroos is al vergeet by daardie stadium verby – die eerste
skooldag.
En tog onthou Herrie sy eie eerste skooldag soos gister – die afwagting, die
opgewondenheid, die ontnugtering.
Ja-nee, dit het Herrie nie eens ‘n hele skooldag geneem nie om agter te kom die
grootmense-kartel het kluitjies gebak deur ‘n man te laat verstaan skool is lekker.
Maar Herrie het darem ‘n tikseltjie beter gevaar as Pa-Jan se prof se
laatlammetjie.
Die tweede dag na die skool begin het lê die mannetjie nog rustig in die kooi, en
sy ma begin hom roer om op te staan.
“Maar ma, ek is mos klaar met skool,” protesteer hy.
Dit neem sy ma ‘n rukkie om agter die kap van hierdie byl te kom: “Juffrou het
gesê ek moenie weer skool toe kom nie.”
Nou, een aand, help die Herrie ‘n ma met ‘n paar rekenaargoedjies, en sy bring
haar kleinspan saam. Sus is al ‘n paar jaar op skool, maar kleinman het nou die
groot oomblik beleef.
“Jis tannie, dis ‘n groooot skool,” beduie hy vir Mev. Herrie, die oë die ene poele
van ontsag.

83
Naderhand kom die Herrie agter die mannetjie is nou na ‘n groterige kleuterskool
toe. Sy verrassing lê dus nog eintlik voor.
Maar vir eers speel die grootmenskartel weer saam en vertel hom hoe wonderlik
die ondervinding is. Dalk help dit om te keer dat hy al op sy eerste dag al
agterkom die skool is nie ‘n man se plek nie.
By ‘n skool waar Herrie klas bygewoon het, was daar so elke nou en dan ‘n
bevlieging onder die onnies. Pouse gaan haal hulle die rokers uit die
fietryhokkies uit en marsjeer met hulle skoolhoof toe – of rektor, soos daai skool
sy prinsipaal genoem het.
Van die audi altaram partem-reël, menseregte en so aan was daar geen sprake
nie. By geleentheid is een knaap nie in skoolklere nie, en sy hare te lank vir die
skoolregulasies. Die skoolhoof meen dis ‘n nuweling, en spreek hom aan hieroor.
Die knaap begin protesteer, en die skoolhoof maak hom stil, en hy kry toe
boonop ‘n ekstra hou vir teenpraat.
Die volgende dag bel die elektriese kontrakteur. Een van sy eppies wat met
herstelwerk by die skool besig is, vertel die belaglike storie dat hy siep sop vir
rook gekry het, en nou weier hy volstrek om weer sy voete by die skool te sit...

Herrie se kerrie: Glips na links


Onlangs is ‘n beriggie op Praag se webwerf geplaas oor die min wat ‘n mens nog
‘n byglip op die krieketveld sien.
Wel, die volgende dag gebruik die Engelse draaibouler Peter Swan toe ‘n byglip
teen die Proteas, wat maar net weer onomstootlik wys dat Afrikaans wyd gelees
word – ook in die Engelse krieketspan. Want hulle kán.
Maar die Suid-Afrikaners (wat nog vir Suid-Afrika speel) sal nie weer ‘n byglip
gebruik nie.
Herrie verneem onbetroubaar die regering het in een van sy politieke
inmengsessies ‘n verbod geplaas op Suid-Afrikaanse krieketspanne om weer
van byglippe gebruik te maak.
Dit, so meen die regering, is ongesond vir transformasie as iemand elke keer
uitgehaal word as hy na links glips.
Dus, nou sal ons tot vyf glippe aan die regterkant sien. Ook in opdrag van die
regering want ‘n glipsie na regs is onaanvaarbaar, dislojaal, grens aan verraad, is
rassisties en ‘n misdaad teen die mensdom.
So verneem Herrie.
Herrie het nou slegte nuus vir die rugbymense wat so oor dié tameletjie giggel.
Volgende op die lys van die regering se verbod-planne, is die posisie van
regtervleuel op die rugbyveld. Trouens, planne is ver gevorder om ook minstens
een senterposisie in die slag te laat bly, want onder pô...pôslirensasiende ...of so
iets... omstandighede soos nou neig die sentrum om ook na regs te beweeg.
Flanke wat verkies om regs te sak, se dae is ook getel. Nou moet ‘n man kies of
hy oopkant of ...toekant? wil speel.
Die stutposisies word nou intensief ondersoek by die Departement van Sport se
Direktoraat Politieke Inmenging want, so verneem Herrie, die regering verdink
hierdie posisie van paternalisme, en dus rassisme. Want sien, iets stut nou

84
iemand, en dit reflekteer sleg op die ontplooide kaders wat nie op hul eie die mas
kan opkom nie, maar darem die skatkis kan stroop.
Die slotposisie is ook in die gedrang, want slotte steek ‘n stokkie voor
regstellende herverdeling.
Omtrent al posisie wat volgens Herrie se informante regtig veilig is, is die
losskakelposisie, want los skakels is nodig om mense wat dom genoeg was om
uitgevang te word, weer los en herontplooi te kry.
Al wat glo nog in die pad van die opheffing van hierdie posisies staan is die
spelersvakbond wat CCMA toe wil gaan as daar nie groot pakkette betaal word
nie. En daai geldjies is glo klaar op nuwe karre en hotelverblyf geblaas.
So, altans, verneem Herrie.

Free State’s prehistoric treasures uncovered

The Free State is on the verge of hitting gold with a unique added tourist
attraction, thanks to the fossils of animals dating back to 250 million years found
at the site of Eskom’s Ingula Pump Storage Facility on the KZN border.

These unique findings – the first ever to be


found, were done at the end of last year and
belong to the gorgonopsian and dicynodon
lacerticeps (Mamal like reptiles) groups.
The North East area of the KZN-Free State
border was the only place where the animals
got their water from. Most got stuck in the mud
and died when the swamps started drying up.
Now scientists say they expect to find more
remains as the excavation
process continues.

The fossils, still embedded in


rock, are taken to the National
Museum in Bloemfontein, already
boasting a significant
paleontology department and
display, where the cleaning up will
Construction site and
construction site activities

85
be done and studies done, after which some will
be returned to Ingula to be displayed in the visitor’s
centre at the facility.
Fossils of a wide variety had been found on the site
over the past few years, and
Eskom appointed Dr. Gideon Groenewald as
consultant. He has been working hand in hand with
other paleontologists, markedly those from the
National Museum. Dr Groenewald and a team
from the National Museum in Bloemfontein are
hoping that the data extracted from these findings
will provide more insight into the reasons behind
the mass extinction at the end of the Permian
period, as much as 85% of all life on Earth was
wiped out.
The fossil collection predates the founding of the National Museum in 1877 and
is now headed by Dr Jennifer Botha-Brink. The present large collection contains
more than 3600 fossil specimens and includes the tritheledontid cynodont
Diarthrognathus, virtually all the material of the primitive dicynodont,
Eodicynodon, and the only known skull of the early prosauropod dinosaur,
Melanorosaurus, that lived during the Triassic about 215 million years ago. We
also have more than 3000 invertebrate specimens, mainly consisting of
Cretaceous ammonites, 126 specimens of fossil plants, which were collected
mostly during the 1920s and 1950s, as well as more than 2000 mineral
specimens, which include several meteorites.
The fossil display, which is open to the public, consists mainly of animals that
represent early relatives of mammals, namely the Therapsida,

ewrge

Weer bonusse? (Engelse teks hieronder)


Het groot Amerikaanse banke en versekeraars hulle die afgelope jaar weer aan
die betaal van allerlei bonusse te buite gegaan?
Die Wall Street Journal berig dat hierdie sektor hul mense die afgelope jaar
altesaam 145 miljard dollar betaal het, 6 % meer as in 2007 toe die betaling van
salarisse, bonusse en ander meevallers ‘n rekordvlak bereik het.
Die werkers van hierdie sektor het verlede jaar bykans $150 000 verdien, $ 3 000
meer as in 2007. Hierdie sektor se inkomste het die afgelope jaar met 25 %
gegroei.
Nie almal stem met die Wall Street Journal se berekenings saam nie. Die koerant
het sy berekenings gedoen op die data van 38 van die VSA se groot banke en
versekeraars. Die instansies wat hierop gereageer het, sê die skatting is te hoog.

86
Boonop, gegewe die groot ontevredenheid oor hoë bankbonnusse voor die Wall
Street-duikslag (en in sommige gevalle selfs daarna toe van die instansies deur
staatshulp vlot gemaak is) sal verseker dat die instansies die gordel intrek
wanneer dit by bonusse kom.
Bonuses again?
Have major American banks and insurers yet again gone overboard with the
payment of bonuses last year?
The Wall Street Journal reports that this sector has paid their workers a total of $
145 billion in 2009, 6 % more than in 2007 when the payment of salaries,
bonuses and several add on’s reached record levels. The income of this sector
grew by 25 % over the past year.
Not so, say a number of institutions reacting to the Journal’s report. The financial
based its findings on the data of 38 of the USA’s largest banks and insurers over
the first 9 months of the year. The estimates based on this sample were to high.
Also, they argue, the uproar large bonuses paid before the Wall Street tumbling
(and sometimes even thereafter when bail out finance was obtained from the
state) would ensure that these institutions will slim down on bonuses.

Wie weet niks?


Iets wat van tyd tot tyd op die tafel beland, is die ouer geslag se kommer oor die
jonger geslag se ontstellende gebrek aan algemene kennis.
Ironies, spreek die jongelinge gereeld die mening uit dat die “ou mense weet
niks.”
Toegegee, die dae dat bykans enige standerd 4-kind so uit die vuis die wêreld se
hoofstede kan oprits, asook die meeste lande se leiers, is seker goed verby. Wie
van ons, oud of jonk, weet so uit die vuis wie Lesotho en Nederland se Eerste
Ministers is – in skrille kontras met die dae toe almal van Leabua Jonathan, Joop
den Uyl, Olaf Palme, Mao Zedong, Tsjou en Lai (nee, dis nie Sjinees vir ontbyt in
die kooi nie) geweet het?
Dit daargelaat. Vanoggend raad George Claassen in By egter aan ‘n verwante
saak – die jong mense wat nie meer geleer word om te dink nie, met die
gevolglike swak prestasies, wat skool-akademiese prestasies insluit.
Gedagtig aan sy onlangse uitsprake rondom gosdiensbeoefening op skool, was
die uwe in die versoeking om by voorbaat die naam van sy rubriek, Kwakoskoop,
verkeerd te spel (jôrs troelie het darem redelike erge disleksie waaragter geskuil
kan word).
Na die lees van die rubriek, is daar egter soveel waarmee saamgestem moet
word, dat dit bloot by versoeking bly.
Die vermoede dat George met sy verwysings na “bygeloof” eintlik ook die term
“geloof” insluit, bly ‘n remmende uitwerking uitoefen.
Maar kom ons fokus vir ‘n oomblik op die saamstembare. Ten eerste, vanoggend
se Volksblad se mashoof, Volksblad, word amper net so groot gevolg met
“Sandra terug by Egoli.”
Dan móét eenvoudig met George saamgestem word. Ons mense onderbenut
ons beskikbare breinbedrading erg, ons dink nie, want ons het nie genoeg
feitelike agtergrond om teen te dink nie.

87
Daar is natuurlik mense met indrukwekkende algemene kennisse, en mense wat
oor die vermoë beskik om hierdie kennis toe te pas, of sinvol te ontleed. Die
gevaar kom is as ‘n mens begin ontleed sonder die mees basiese kennis.
As vertrekpunt. Hoeveel van die mense wat nou in die huidige debat so hul
monde teen die volkstaatgedagte uitspoel, het werklik enige kennis hieroor om
hul menings te kan uitspreek?
Dr. Pieter Mulder, in reaksie op ‘n vroeëre rubriek van Ferdi Greyling, wys opnuut
daarop dat hierdie gedagte, saamgelees met volke selfbeskikkingsreg, deur die
moderne volkereg gerugsteun word. Iemand wat vanuit ‘n skynbaar akademiese
hoek na die gedagte as verkramp en outyds verwys, se kennis laat hom
doodeenvoudig in die steek.
Greyling het ‘n verbluffende algemene kennis, maar tog moes Mulder hom
daarop wys dat groepregte, soos die volkereg dit erken, nie soos Greyling
gemeen het, oor ras handel nie.
Pieter du Toit, wat waagmoedig sy mond oor die lesers se volkstaatkeuse
uitgespoel het, was reeds verskeie kere op Orania, maar het hy enige van die
Volkstaatsraad se verslae gelees sodat hy genoeg rugsteun gehad het om hom
uit te spreek?
Die mens reageer ongelukkig op sy persepsie van die werklikheid in plaas van
die werklikheid. Hoe skraler sy kennis, hoe verder verwyder is sy optrede van
paslik.
Die regering probeer hard om Suid-Afrika as ‘n integrale deel van die kontinent,
en in pas met gebruike en sienings eie aan die kontinent te bring. Toe die
Togolese span in Cabinda aangeval word, en CNN die verband na Suid-Afrika se
aanbieding van die Wêreldsokkerbeker trek, laat die regering en sokkerbase
geen gras groei om ‘n nuwe persepsie van groot afstand en min in gemeen nie te
skep.
Ongelukkig is George ook reg dat daar meer boeke oor sterrewiggelary as
sterrekunde verkoop word. Tot onlangs is ‘n radio-advertensie wat onder meer
sterrewiggelary bemark, Sondagaande in die godsdiensprogram (deesdae mos
meditasie) uitgesaai. Boonop nog ‘n uiters irriterende een ook.
Koerante staan oor die algemeen meer ruimte af aan wat die “sterre” doen
(bedoelende akteurs, sangers, vermaaklikheidsmense) as wetenskaplike
navorsing, “groen” sake en wat in Wes-Europa (uitgesonderd Londen) gebeur.
Teen vanoggend het Volksblad, so ver ek kon sien, nog niks oor die huidige
volkstaatdebat gedra nie.
Daar is positiewe sake ook. RSG se Sterre en Planete is besonder gewild, en
Sondagaande se “Kommentaar” blykbaar ook.
George moet egter waak daarteen om ooit te meen hy kom by die punt waar hy
selfvoldaan die oordeel kan uitspreek: “Ek weet.” Want juis in die wetenskap is
vandag se kennis môre dikwels op die ashoop. Dit ontwikkel baie vinnig.
By geleentheid van internasionale outismedag reik ek ‘n nuusverklaring oor
hierdie toestand uit. Gewoonlik doen ek dit namens ‘n outismevereniging (gratis
omdat my jongste self outisties is), maar dié dag toevallig namens ‘n Christen-
demokratiese party. Sommer gou kry ek ‘n uittrap e-pos van een van George se
dissipels, die wetenskapverslaggewer van ‘n groot Afrikaanse koerant. My

88
vermoede is die verslaggewer se argwaan is ontlok oor die “Christen” in die
naam van die instansie namens wie ek dit uitgereik het. Maar sy trap my van ‘n
kant af uit oor “ek” sê outisme neem toe, en sy spreek haar baie breed oor die
oorsake uit.
Soos die Namakwalandse spreekwoord lui: “As ‘n donkie sy bek oopmaak, val
daar kaf uit.”
Presies hoeveel kaf tref dit my nou weer terwyl ek besig is om ‘n referaat vir ‘n
internasionale outismekongres voor te berei.
Die feite is dat daar in 1991 ongeveer 6 outismegeboortes per 10 000 geboortes
was, in 1998 was dit 12, in 2001 42 en staan nou in die orde van ‘n 100, met nog
geen teken van afplatting nie. Die mees moderne navorsing herlei outisme
steeds, soos destyds in die mediaverklaring, na genetiese mutasies, en die
aantal gene waarmee dit in verband gebring word, word al hoe meer.
Gewoonlik word joernaliste eers die geleentheid tot rubriekskrywing gebied
wanneer hulle bietjie lewenservaring en kennis het. En dan is dit ook nie almal
wat die geleentheid kry nie.
Ek was dus bietjie meer as geamuseerd toe dieselfde wetenskapverslaggewer
se Engels haar kort hierna in die steek laat en sy gaan skryf oor die voorwerp so
groot soos die aarde wat op Jupiter gaan val het. Net so ‘n bietjie luister na
Sterre en Planete sou reeds genoeg agtergrond verskaf het dat so iets hoogs
onwaarskynlik sou wees. Die opslaan van die Engelse teks bring toe ook aan die
lig dat dit ‘n voorwerp was wat ‘n tydelike letsel (Jupiter is ‘n gasplaneet) so groot
soos die aarde gemaak het. Gaan gooi maar ‘n klippie in ‘n dam en kyk hoe groot
is die “letsel” na ‘n ruk.
Gewoonlik doen verslaggewers verslag oor wat werklik gebeur het, en filosofeer
nie rondom die onderwerp teen ‘n spektrum van gebrekkige kennis nie. Dit geld
ook uitsprake oor die volkstaat en selfbeskikking, wat die produk van vakgebiede
in eie reg (my eie kwalifikasies tussen hakies) soos die Politieke Wetenskap
(Honneurs, 1977), Politieke Geografie (3, 1976), Politieke Sosiologie, Ekonomie
(116, 1984) en Staatsreg (1, 1994) insluit, met die verstandhouding dat die
Volkereg en Internasionale Reg via Politieke Wetenskap (Internasionale
Verhoudings), Politieke Geografie en Staatsreg behoorlik inslag vind.
Presies hoeveel navorsingstukke teen die beginsel van outonomie en
selfbeskikking het die monduitspoellers aan die Staatkundige Komitee van die
Presidentsraad, aan Kodesa en die Volkstaatraad gelewer wat hulle so kenners
maak? Ek het talle, in eie naam, maar ook namens DG’s, ‘n adjunk-minister en ‘n
administrateur gedoen. Dit maak my lank nie die grootste kenner op die gebied
nie, maar darem stellig ietwat beter ingelig as sommige van die “kenners” by wie
die media toustaan om bydraes te kry.
As iemand wat in strategiese kommunikasie opgelei is, wil dit amper voorkom
asof daar in iemand se kop die gedagte uitgebroei is dat die tyd nou ryp is om die
volkstaatgedagte finaal dood te slaan.
En toe boemerang dit.
Ja George, voorlopig gaan ek jou rubriek, Kwakoskoop, nie anders spel nie.
Maar spreek ook die kwakke onder jou eie dissipels aan.

89
Meer Nederlanders steun Navo-missie in Afganistan
Die jongste peiling onder Nederlanders toon dat die persentasie wat die Navo-
operasie in Afganistan steun, effens toegeneem het. Altesaam 37 persent steun
nou die militêre ekskursie teenoor 33 persent in 2008.
Onlangs is nog berig dat die Nederlandse kabinet erg verdeeld is oor Navo se
versoek om meer troepe beskikbaar te stel. Navo het ‘n bykomende 7 000 troepe
uit 25 lande (nie almal Navo-lede nie) vir pres. Barack Obama se
uitbreidingsplanne van 30 000 troepe beloof.
Associated News Press, wat oor die jongste peiling berig, noem nie hoekom
gemeen word dat ietwat meer Nederlanders nou die Afgaanse uitstappie steun
nie. Sommige bronne meen dat dit verband hou met die feit dat die vorige
meningspeiling in die bewindstyd van pres. George W. Bush gedoen is, en die
jongste terwyl die afname in pres. Obama se gewildheid in die VSA nog nie na
Europese lande waar sy gewildheid hoogty vier, deurgewerk het nie.
Die peiling toon wel dat hoewel sowat 60 persent Nederlanders teen die
oorlogspoging in Afganistan is, is ongeveer net soveel ten gunste van Navo-
operasies buite Europa in die algemeen.

Nuuskommentaar: Cabinda se impak op Suid-Afrika se sokker-


wêreldbekerkampioenskap
Die bykanse histerie waarmee Suid-Afrika die brandende vure wil doodslaan na
die aanval op die Togolese sokkerspan in Angola is te wagte.
Terwyl daar op die vlakke van die Afrika-Unie, SADEK en interne politiek hard
gewerk word aan ‘n Afrika-identiteit en –eenheid, kon Suid-Afrika nou nie gou
genoeg spring om afstand tussen hom en Angola te plaas nie.
Oor Suid-Afrika se jarelange versuim om ‘n woord te rep oor die toestande wat
tot die aanval aanleiding gegee het, en wat verhoudinge met die regering in
Luanda sou versuur, word nou nie ‘n woord gerep nie.
Selfs die bewoording om nou afstand te plaas, is polities so korrek as moontlik
en strek niks verder as georafiese afstand nie. Oor die kleptokratiese nepotisme
in die Angolese regeringshuis wat die land se ontwikkeling so trem, word niks
gesê nie.
Cabinda is in verskeie opsigte ‘n Angolese kolonie met groot oliebronne, wat
deur die regering in Luanda effektief leeggesuig word.
Terwyl daar oor jare hard gewerk is om Afrika as ‘n groter eenheid in die oë van
die wêreld te skets, moet die uitveërs nou oornag ingespan word om te keer dat
dié persepsie op die vooraand van Suid-Afrika se eie sokkerskouspel
boemerang.
Geopolitieke persepsies is agter nie al wat nou impak maak nie. Suid-Afrika moet
nou die skade beperk teen die agtergrond dat die land die wêreld se moord- en
verkragtinghoofsetel is. Die aksie om hierdie persepsie hok te slaan is al amper
net so duur soos die aksie om die misdaad self te probeer hokslaan. Nou het
swak matriekuitslae boonop die persepsie kom voed van ‘n land wat sukkel om
doeltreffend regeer te word, en berigte oor gevaarlike slaggate in paaie, deel van

90
die voorbereide vervoerinfrastruktuur vir die sokkerskouspel, voorblad op
voorblad haal.
Die kroning van Julius Malema as troonopvolger mag dalk as een persepsie in
die Afrika-konteks beleef word, maar by die res van die wêreld help voed dit die
persepsie van ‘n kontinent waar leiers soos Ghaddafi, Mugabe en Al-Bashir
opgelewer en gekoester word. Trouens, Suid-Afrika skop nou viervoet vas om
uitvoering te gee aan ‘n tussenstaatlike ooreenkoms met Zimbabwe wat onder
meer bepaal dat Suid-Afrikaanse boere se belange in Zimbabwe as deel van die
ooreenkoms beskerm sal word. Die vyeblaar waaragter geskuil word is dat die
Zimbabwiese parlement nog nie die ooreenkoms geratifiseer het nie. Dat die
Crawford von Abo-saak ‘n ander lig hierop werp en in ieder geval sonder die
ooreenkoms of ratifikasie verpligtinge op die Suid-Afrikaanse regering plaas,
word nou uit die openbare oog gehou.
Die harde les is dat ‘n land nie anargiste kan omarm sonder dat die beeld op
hom self begin afvryf nie.
Persepsies word nie oornag aan- en afgeskakel nie, en negatiewe persepsies
word baie makliker geskep en gevoed as die positiewes.

Meningsvryheid getoets
’n Hofsaak wat volgende week in Nederland begin en die perke van spraak- en
meningsuiting deeglik gaan beproef, is ook vir Suid-Afrika van belang.
In hierdie hofsaak word die nuusmaker-parlementslid, Geert Wilders, van
“haatsaai” en “groepsbelediging” aangekla, wat in Nederland twee verskillende
misdrywe is en vir beide kan ‘n maksimum-vonnis van ‘n jaar gevangenisstraf
opgelê word.
In Suid-Afrika sou dit waarskynlik klagtes van haatspraak en kriminele laster tot
gevolg gehad het. Die appèlhof in Suid-Afrika het onlangs bevestig dat die klag
van kriminele laster nie weens onbruik verval het nie.
Die kruks van die saak is dat spraakvryheid en uitsdrukkingsvryheid nie
onbegrens is nie, en afgesien van ‘n rits sivielregtelike moeilikheid, nog vir ‘n
man ‘n gesonde klomp strafregtelike moeilikheid op die hals kan haal.
Wilders se vervolging is ietwat ongewoon aangesien die vervolging nie deur die
Openbare Ministerie, wat met ons Nasionale Vervolgingsgesag vergelyk kan
word, ingestel is nie, maar deur die Amsterdamse Geregshof.
Sy teenspoed spruit uit uitsprake oor Moslems, die Islam en die Koran. Wat veral
die rooi vlag vir die hof was, was ‘n opmerking dat die Islam soos Nazisme is, en
dat die Koran die Islam se Mein Kampf is omdat dit glo uitdelging voorstaan.
Die verhoor moet nog plaasvind, maar tog het Suid-Afrikaners hierby ‘n belang.
Die belang spruit nie soseer oor die gemeenskaplike Romeins-Hollandse
regstelsel nie, maar ‘n bepaling in die Suid-Afrikaanse grondwet dat by die uitleg
van Handves van Menseregte, buitelandse regspraak in berekening gebring kan
word.
Die vind van die beperkings van regte soos die reg op vryheid van uitdrukking
(art 16) is om verskeie redes nodig, soos dat een stel regte van een persoon kan
bots met die grondwetlike regte wat ‘n ander het. Terwyl die een dus ‘n reg op

91
uitdrukkingsvryheid het, het ‘n ander die reg op waardigheid (art 10), privaatheid,
geloofsvryheid en byvoorbeeld ook waar van toepassing, kinderregte.
Nog ‘n beperkende gronde is beperkings wat wetgewing daarop plaas, hoewel
onderhewig aan voorwaardes dat die beperkings nie van so ‘n aard mag wees
dat dit die reg heeltemal vernietig nie.
Die kort en die lank is, iemand het nie maar net ‘n vry sê oor ‘n ander nie, en die
tipe moeilikheid wat ‘n mens jouself op die hals kan haal wissel van die aard,
byvoorbeeld met mondelinge uitsprake iets soos crimen injuria, met iets op skrif
(gepubliseer) kriminele laster, of op die sivielregtelike terrein, laster.
Haatspraak dui eerder op die aantasting van ‘n groep se waardigheid, en so is na
‘n groot gesukkel daarin geslaag om die slagspreuk, Kill the Boer, kill the farmer,
tot haatspraak te verklaar. Die handves van menseregte se hofies waaronder ‘n
mens die riglyne sal soek sluit in taal- en kulturele regte (art 30, saamgelees met
art 31), en godsdiens (art 15). In die praktyk sal art 9 (3) waarskynlik, via die
verbod op diskriminasie, kategorieë stel wat nie beledig mag word nie, en dit sluit
kategorieë in soos ras, geslag, oriëntasie en gestremdheid.
Om in die praktyk te demonstreer hoekom hierdie norme met effense juridiese
akrobasie ter sake kom:
Om die regstreekse norme sonder konteks te gebruik, sou iemand byvoorbeeld
gekrenk voel as iemand hom uitskel as: “Jou Afrikaner,” of “Jou Christen.”?
Hierteenoor is mens bykans gewaarborg om hewige reaksie te ontlok as iemand
toegesnou word: “Jou k***r,” “jou vuil Boer,” “jou moffie” of “jou kruppelgat.”
Wanneer die “bedoelde” kategorieë doelbewus beledig word, deur iets vulgêrs of
onwaar by te voeg, kan godsdiensgroepe wél as groep eksepsie neem, soos
Moslems se besware by die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming
van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kulturele regte. Christengroepe se
soortgelyke klagtes oor sake soos die onderstebo uitbeelding van die kruis in ‘n
bioskoopbekendstelling is egter nie deur die Kommissie hanteer nie. Volgens ‘n
joernalis wat dit ondersoek het, het die Kommissie in ‘n stadium nog geen klag
van Christengroepe hanteer nie.
Die uitspraak in die Wilders-saak sal minstens beproefbare riglyne verskaf wat
groepe hier kan gebruik om mense voor ‘n soort strafhof te bring vir uitsprake
soos dié van Malema na Caster Semanye se terugkeer uit die buiteland.

Herrie se kerrie: Groot Herrie se grootword


Groot Herrie maak DV vanjaar klaar met sy landboustudies.
Vir Herrie voel dit of hy maar nou die dag gebore is, en nou het hy al 'n
werksaanbod gekry vir wanneer hy klaargemaak het.
Groot Herrie was nog bitter jonk toe eers Mev. Herrie, en toe Herrie, operasies
moes ondergaan wat die twee oues 'n ruk lank buite aksie gestel het. Kleinman is
toe plaas toe, na oupa Nic en ouma Engela.
Toe hy terugkom, was hy pure plaaskind, en was dit sedertdien nog altyd. As
daar 'n wiel Bethlehem se kant toe draai, dan is die kleinman saam. By
geleentheid kom ouma hom haal, en toe kleinman die bakkie voor die huis sien
staan, storm hy uit, gryp die tweerigtingradio se mikrofoon en roep: "Oupa, ons
kom! Oor en uit!"

92
Sy sêgoed het altoos 'n glimlag getrek, later ook toe hy 'n werklike droë
humorsin ontwikkel het. Kleintyd het hy hom op 'n manier wysgemaak dat 'n kind
se grootste vrees "die pikkenwyne" moet wees, veral snags. Waar hy daaraan
gekom het, weet g'n mens nie, maar tot vandag toe word "pikkewyne" in die
Herries se huishouding gereeld "pikkenwyne."
Toe Schumaker-Levy op Jupiter loop val het, was Groot Herrie net groot genoeg
om min of meer kennis te neem, en is aan hom verduidelik van die klippe wat op
Jupiter geval het. 'n Paar weke later wil hy by sy oupa weet of dié weet van die
klippe wat op oom Pieter se kop geval het. Herrie snap dadelik Jupiter het "oom
Pieter" geword, maar brand om te hoor waarheen die gesprek vorder.
"Nou wie sou die klippe op oom oom Pieter se kop gaan gooi het?" vra oupa.
Nee, dit weet die kleinman nou nie.
"Seker maar Thibo," meen oupa, wat juis weer 'n vreeslik moeilikheid gehad het
hier oor 'n naweek met die lawaaiwater saam, waar Thibo die moeilikheidmaker
was en oplaas die res van die naweek in die selle deurgebring het.
"Ja seker," stem Groot Herrie saam.
By geleentheid sit hy aan tafel en grootmenstande tel. Die gesprek handel oor
die 13-jariges by die Waterfront wat so kompetisie aan die prostitute bied. Die
gesprek vind ter wille van klein muisies se groot ore in kodetaal plaas, en een
druk dit uit as die "goggas van die nag."
Net hier lê Groot Herrie sy eiertjie: "Ja, 'n mens noem hulle steekvlieë."
Later het hy geleer om mense doelbewus te laat lag. Herrie en sy buurman het
groot baklei gehad oor buurman se werkery met kraggereedskap op Sondae
onder 'n afdak wat die klank soos 'n trompet in die Herries se juis kaats. 'n
Doodskisfabriek, het Herrie later uitgevind.
Groot Herrie gaan koop 'n brood, en stap by buurman se huis verby. Met sy
terugkeer rapporteer hy oor die "kennismaking" met buurman. "Het jy toe vir hom
gewaai?" wil Mev. Herrie weet.
"Ja, maar ek sal nie sê met hoeveel vingers nie."
Van kleins af was dit duidelik hy het een van sy oupagrootjie se voete geërf. Elke
laerskooljaar groei die voete twee nommers, en later moes aan die
verkoopsmense verduidelik word dis 'n nommer nege volwasse nommer, en later
'n nommer elf volwasse nommer, en toe, in graad 7, nommer 13.
Hy is hoërskool toe in 'n skoengrootte waarvoor daar nie skoolskoene gemaak
word nie. Herrie het vir 'n oproep van die skool gewag oor dié trappers, en solank
humeur opgebou, maar die oproepe het gelukkig nie gekom nie. Gelukkig het die
voete toe ook by 13's vasgesteek. By geleentheid het Groot Herrie egter laat
weet sy tekkies knyp, en die soektog na 14's het amper 'n hartaanval opgelewer.
Herrie het soos klokslag verduidelik hy soek net die 'n paar tekkies, hy stel nie
belang om die fabriek te koop nie.
Gelukkig was dit 'n vals alarm.
Dit kon nie vir Groot Herrie maklik gewees het om 'n gestremde kleinboet te hê
nie. Maar, soos Herrie dit onomwonde stel, die Here kon nie 'n beter ouboet vir
Klein Herrie gegee het nie.
En nou, as alles volgens plan verloop, is daar nog net 'n jaar oor voor hy sy
vlerke finaal wyd sprei.

93
Maleisië: Aanvalle op Christelike kerke
Pas het nog twee Christenkerke in Maleisië onder brandbomme deurgeloop en
nog een met swart verf betakel, as deel van ‘n vlaag geweld in dié Moslemland
sedert die Maleisiese hoogste hof op 31 Desember verlede jaar beslis het nie-
Moslems mag ook die woord Allah gebruik wanneer hulle tot God bid.
Allah is die Arabiese woord vir “god” en daarom gebruik die Maltese, Rooms-
Katolieke wat ‘n taal verwant aan Arabies praat, ook die term.
Dit word egter ook deur Christene in talle ander lande gebruik, hoofsaaklik
Arabiese lande, maar ook in Indonesië.
In Maleisië gebruik Christene (sowat 9 persent van die bevolking) wat hul
godsdiens in tale soos Engels, Tamil en Chinees aanbid, nie die term “Allah”
nie, en die gebruik is
hoofsaaklik tot die sprekers
van afgeleë landelike tale
beperk. Die hofaansoek om
die gebruik goed te keur, is
deur die Rooms-Katolieke
kerk in Maleisië gebring, wat
die woord in ‘n Maleisiese
publikasie gebruik.
Moslems wat oor die
hofbeslissing ongelukkig is –
die regering het daarteen
appèl aangeteken – meen die
gebruik van die term “Allah” in
die Christelike godsdiens kan verwarring veroorsaak en mense mislei om hulle
tot die Christendom te bekeer.
Regeringsleiers het die aanvalle veroordeel, en ‘n bedrag van amper ‘n R1
miljoen staatsfondse is bewillig om een van die kerke te herbou.
Foto: Verslae kerkgangers by een van die kerke wat aangeval is. Foto: AP

Gaan na die Armeniërs en word wys


In April vanjaar herdenk Armeniërs wêreldwyd ‘n gebeurtenis in hul antieke
geskiedenis, wat ten nouste met die Christendom verweef is. Dit sal dan presies
95 jaar wees sedert meer as ‘n miljoen Armeniërs in een van die ergste
volksmoorde aan die hand van Turkye omgekom het.
Wat die afgelope paar jaar se herdenkings meer opvallend maak as wat tevore
die geval was is dat dit nou vir Turkye as verleentheid opduik in sy pogings om
lid van die Europese Unie te word. Dit, terwyl Turkye die volksmoord amptelik
ontken.
Die talle Armeniërs in diaspora het egter nié vergeet nie, en het met volgehoue
pogings daarin geslaag om hierdie gebeurtenis uit die vergetelheid te herroep, en
wêreldwyd ondersteuners verwerf, wat ook lustig per e-pos en op ander maniere
meedoen om ‘n gebeurtenis waarvan die mensdom wou vergeet, lewend te hou.

94
Van vergeet en vergifnis is geen sprake nie, veral omdat Turkye steeds ontken
dat dit ooit plaasgevind het. So volledig is die Armeense bevolking verdelg en
verdryf uit hul oorspronklike kerngebiede, dat ensiklopedieë oor die algemeen nie
eens verwys na Armeens as ‘n minderheidstaal in Turkye nie.
‘n Armeense staat het wel weer verrys met die ontbinding van die Soviet-Unie.
Hierdie staatjie, vasgeknyp tussen Georgië, Turkye, Iran, Azerbadjan en die
Russiese Federasie is ‘n arm en klein oorblyfsel van ‘n eens magtige staat wat
lank voor die Oos-Romeinse Ryk (Bisantium) as bolwerk teen Moslem-indringing
uit die Ooste gedien het. Afgesien van die Georgiërs (wat deur die Armeniërs
gekersten is), is al die omringende lande Moslemstate, en veral Azerbadjan is
Armenië besonder vyandiggesing. Die Tsjetsniese Republiek binne die Russiese
Federasie grens boonop ook aan Armenië.
Die berg Ararat in dié landjie is moontlik meer bekend as die land self, en is vir
baie van die toeriste verantwoordelik.
Kort na onafhanklikheidswording is die herrysende staat boonop deur ‘n
verwoestende aarbewing geref, en sowat 30 000 mense het gesterf.
Afgesien van die ou Armeense koninkryk het ‘n tweede Armeense staat in
vervloë dae tot stand gekom. Hierdie staat is gestig na ‘n lang trek deur ‘n prins
en sy volgelinge, en die staat is aan die Middellandse See, ook binne die grense
van die teenswoordige Turkye, gestig. Hierdie staat, wat dikwels op ou kaarte as
die Kruisvaarder-koninkryk van Armenië aangedui word, het veral met Frankryk
noue bande gehad. Toe dié staat verdwyn het, het baie van hierdie inwoners hul
weg na Libanon gevind, en die Christenbevolking daar nie net in getalle versterk
nie, maar ook met hul hoë opvoedingspeil gehelp om ‘n hoogs-ontwikkelde staat,
wat eens as die Switserland van die Midde-Ooste genoem is, te vorm.
In Libanon het ‘n groepie met van die radikale Palestynse groepe deurmekaar
geraak, en is die organisasie, Armenian Secret Army for the Liberation of
Armenia, Asala, gevorm. Asala het die wêreld in die laat 70ger en vroeg 80ger
jare deeglik van die Armeense lot aan die hand van die Turke laat kennis neem
deur verskeie Turkse teikens soos ambassades en lugdiensbelange aan te val.
Hierna was die veldtog om erkenning en herstel vreedsaam.
Onlangs het ‘n bekende Turkse geskiedskrywer vir die eerste keer erken dat die
volksmoord plaasgevind het. Dit word as belangrike deurbraak beskou, maar nie
alle Turke is hiermee ingenome nie.
Die sand loop egter uit vir Turkye. Die gebeurtenis verkry internasionaal al hoe
meer aansien, en in Nederland het die Tweede Kamer, op inisiatief van die
ChristenUnie, die volksmoord amptelik erken. Turkye het al óm die gebeurtenis
aan die voorvereistes vir deelwording van die EU begin voldoen. Die doodstraf is
byvoorbeeld afgeskaf, wat beteken het dat Koerdiese opstandelinge nie meer die
doodstraf opgelê kon word nie. Belangriker egter, het Turkye die amptelike
onderdrukking van ander inheemse tale, byvoorbeeld juis Koerdies, opgehef. Vir
die paar oorblywende Armeniërs – wat meesal ter wille van hul lewens verturks
en Moslems geword het, bied dit egter min troos juis omdat hulle amptelik nie
bestaan nie.
Indien Turkye meen die Armeense kwessie sal weggaan, misgis die land hom
heeltemal. In Nederland en ander Wes-Europese lande kry die bewing om die

95
ontkenning van volksmoorde ‘n strafbare misdryf te maak algaande momentum.
Anders as wat ‘n mens sou verwag, handel dit nie soseer oor die uitwissing van
Jode nie, aangesien dit, miskien met die uitsondering van die Iranse president
na, nêrens amptelik geglo word nie. Met die Armeense volksmoord is dit anders.
In Nederland moes verkose parlementslede van Turkse afkoms al van die
opneem van hul setels afsien omdat hulle vas glo dat die volksmoord nooit
plaasgevind het nie.
In die VSA is ‘n sterk Armeense lobby wat die Wit Huis sal herinner, deeglik
herinner wanneer die 100-jarige herdenking oor vyf jaar aanbreek, of wanneer
Amerika met te sagte hande teenoor die Turke begin optree. Verder woed ‘n
inligtingsoorlog op die internet. Aan die een kant Armeniërs en simpatiseerders
wat die stryd baie lewend hou, en aan die ander kant die Turke met teen-
propaganda en verwysings na die “sogenaamde” volksmoord.
Turkye moet kennis neem – dwars oor die wêreld is daar mense met ‘n sagte
plekkie vir minderhede, veral as hulle onderdruk word. Sulke minderhede het
verbasende oorlewingsdrange, soos die groep Assiriese Christene wat hulle in
Australië bevind, en noue bande met die Christen-Demokratiese Party aldaar
handhaaf.
Dwars oor die wêreld is geskiedenisboeke taamlik rof met die Amerikaners oor
hul hantering van die Rooihuid-kwessie, en word oor die algemeen ‘n beeld
geskep van klein groepies mense wat in erbarmlike omstandighede in reservate
krepeer.
Hoe om die Afrikaner se beeld in die buiteland ten beste te bemark kan moontlik
ook een van hierdie volk se belangrikste voortbestaansmiddele wees. Daar kan
nie maar agteroorgesit word en gereken word op die wêreld se heroïese
herinneringe aan die Anglo-Boere-oorlog nie, en daar kan nie op gereken word
dat Julius Malema en ander hier deurlopend en genoegsaam begrip vir
Afrikaneronwilligheid om te assimileer sal skep nie.
Gaan na die Armeniërs en word wys.

Suid-Soedan: ‘n Broeiende kruitvat en vergelyking met Suid-Afrika se


plaasmoorde
Hoewel die nuus nou eers na die Suid-Afrikaanse media begin deursyfer oor die
eskalerende konflik in Suid-Soedan, is dit iets wat reeds die afgelope jaar
opgebou het, en teen die middel van Desember was die jaar se dodetal reeds
digby die 1 300. Ander stel die ongevalle op meer as 2 000. Om perspektief te
gee: Suid-Afrika se moordsyfer is jaarliks in die orde van 20 000.
In Suid-Soedan is die konflik aanvanklik afgemaak as onderlinge veediefstal
tussen stamme terwyl daar ‘n hongersnood begin ontwikkel, maar waar statte
aangeval en hele gesinne uitgewis word is dit moeilik om dit bloot as onbenullige
stam-onderonsies af te maak.
In die proses is ‘n kwartmiljoen mense ontwortel.
Die ironie is dat die suide van Soedan sedert ‘n taamlik suksesvolle verdrag
sedert 2005 betreklike outonomie los van die Moslem noorde van die land beleef.
Die suide het tradisioneel swaar deurgeloop in hierdie burgeroolog wat met
tussenposes ongeveer ‘n half eeu geduur het.

96
Nou word die geweld teen ander stamme skynbaar gewoon voortgesit.
Teen die middel van verlede jaar is nog bespiegel dat buitelandse
oliemaatskappye stilweg hoop die suide skei van die noorde af. Die suide het ryk
oliebronne, en die noorde deel nie net daarin nie, maar bedrieg die suide boonop
blykbaar met die verdeling van die inkomste. Met die suide wat nou in onderlinge
stamtwiste betrokke is, raak die opsie van ‘n onafhanklike suide onaptytliker.
Die vermoede bestaan juis dat die ontdekking van olie die dryfkrag agter die
massamoorde in Darfoer, deel van die Moslem-noorde was.
Op die oomblik is die werklike Soedannese tragedie dat bykans 2 000 mense
kon omkom, en nog meer tydens die slagting ledemate verloor en ontwortel is,
terwyl die wêreld die stroom berigte uit die gebied geïgnoreer het.
Op 7 Januarie berig RSG in sy nasionale nuusdiens soos volg: “Minstens 140
mense is dood en 90 gewond in die afgelope week in afgeleë dele van Suid-
Soedan. Die Verenigde Nasies sê gevegte, hoofsaaklik tussen strydende
stamme, het sedert die begin van die jaar in die Warrap-omgewing plaasgevind.
Berigte oor die gevegte het twee dae gelede eers aan die lig gekom, nadat VN-
veiligheidsspanne per vliegtuig na die afgeleë gebiede gereis het. 'n Span van
VN-vredesmagsoldate het per voertuig vertrek, om te probeer uitvind hoe die
situasie op die grond ontvou.”
Dit laat die vraag ontstaan oor hoeveel ander tragedies ter wêreld plaasvind
waarvan die wêreld verkies om nie kennis te neem nie. Onlangs het oud-pres.
Thabo Mbeki nog gesê daar was geen volksmoord in Darfoer nie, maar teen die
agtergrond van sy nukkerige standpunt oor die oorsaak van MIV-Vigs, moet dit
geneem word van wie dit kom.
Nogtans – neem die wêreld kennis van die persentasie-massamoord van Suid-
Afrikaanse kommersiële boere? Die getalle wat in totaal vermoor word is laer as
die getalle wat sukkel om elders in die wêreld die wêreld se oog te tref.
Persentasiegewys is dit skokkend. By tye werk dit uit op ongeveer 130 per 100
000 per jaar. Suid-Afrika se gemiddelde moordkoers is net minder as 40 per 100
000 per jaar. Bruin mans in die Wes-Kaap, waar bende-oorloë hoogty vier, se
moordkoers van meer as 90 per 100 000 per jaar word as die hoogste ter wêreld
vir ‘n identifiseerbare groep beskou, maar die aanslag op kommersiële boere en
hul gesinslede is dikwels heelwat hoër.
Die buitensporigheid blyk daaruit dat die wêreldgemiddeld 5 per 100 000 per jaar
is, en dié van Wes-Europa 1 per 100 000 per jaar.
In reaksie op iemand se poging om hierdie toedrag van sake in die Afrikaner se
poësie beslag te gee, skryf iemand anders op die internet dat die persoon wat
hom daarvoor beywer dat digters hierdie saak die aandag gee wat dit verdien sy
goed moet vat en trek want dit raak sy sak.
Of moet ons vrede maak daarmee dat ‘n plaaskind se aandgebed blywend die
volgende trant moet hê?:

Sprokie vir ‘n plaaskind


Slaap nou lekker sag my kind
Buite pluk saggies die wind
Voor die vensters is die tralies lekker yslik dik

97
Terwyl die staanhorlosie die nagure wegtik
Liewe Jesus is hier by jou grootman
Hy sal jou trou bewaar soos net Hy kan
Teddie en seekoei lê teenaan jou snoesig saam
Wagter en Bruno patrolleer die werf tesaam
Langsaan slaap pappa en mamma lig
Die baie gewere binne sig
Die tweerigting radio altyd aan
Buite helder skyn die gele maan
Grootman, jy moet lekker slaap
More kom skeer hulle skaap
Dan moet jy kom help keer
En jou oorleefstryd leer
Slaap maar rustig Grootman

Engeland sonder Engelse


Onlangs het twee voorste Engelse sokkerspanne teen mekaar gespeel. Wat dié
wedstryd besonders gemaak het, is dat dit die eerste keer was dat beide spanne
nie ‘n enkele gebore Engelsman op die veld gehad het nie. Die spanne was
Arsenal en Portsmouth. Arsenal het wel ‘n Engelsman op die
plaasvervangersbank gehad, Craig Eastmond, maar sy twee gereelde Engelse
plaasvervangers, Wallcott en Gibbs, was beide beseer.
Die probleem, is, verduidelik die BBC, dat daar nie genoeg goeie Engelse
spelers is sodat almal kan hê nie, veral nie met die dat Chelsea en United “almal”
het so snoep is en nie van sy rariteite wil verkwansel nie.
Op die oomblik speel Engeland kriekettoetse in Suid-Afrika, met drie gebore
Suid-Afrikaners wat in sy toporde kolf. Een is boonop die huidige kaptein, en ‘n
ander was al kaptein. En hulle volg in die voetspore van ander gebore Suid-
Afrikaners wat al Engeland aangevoer het – Tony Greig en Basil D’Olivereira.
Net om sake bietjie meer af te rond, Omar Henry het ook al die Skotte
aangevoer.
Pas is berig dat die All Black-losskakel, Carlos Spencer, die Lions (hoekom moet
ons spanne hier Engelse name hê en dan teen die Britse en Ierse Leeus speel?)
in die Super 14 beskikbaar gaan wees, terwyl die plaaslike losskakel van die
Leeus weer vir die Western Force gaan uitdraf.
Onlangs het iemand, op die vooraand van ‘n provinsiale rugbywedstryd, gaan
koppe tel om te kyk hoeveel spelers van elke span het werklik bande met die
spanne waarvoor hulle speel. Aan beide kante was dit ‘n halwe handjievol.
Daar word graag gespot oor besoekende spanne wat teen die Vrystaat kom
speel, en die besoekers se spelers dan ewe gerieflik by hul ouerhuise tuisgaan.
Die Cheetahs staan egter self agter die deur.
Geldrugby is ‘n gegewe, en so ook die behoefte van spelers wat nog voel hulle
het woema maar word stief deur die “keurders” behandel, wat dan na die
buiteland uitwyk om ‘n behoorlike “pensioen” te gaan opbou.

98
In die proses is die toeskouers die verloorders. Saterdag na Saterdag word van
hulle verwag om spanne wat eintlik grootliks uit huursoldate bestaan, aan te
moedig.
Dikwels is die spelers weinig meer as prima donnas. Om darem van ‘n hoogs-
betaalde speler te verwag om op Kimberley se harde veld ‘n speler wat baie
minder verdien te moet lak ...
Tong in die kies is al voorgestel dat Suid-Afrikaanse spanne verplig word om
kwotas eie spelers te gebruik. As elke span verplig word om minstens sewe
spelers in te sluit wat darem minstens twee seisoene rugby, anders as vir die
senior provinsiale span, in ‘n bond te gespeel het, sal die Vrystaat darem kan
aanspraak maak om die Vrystaat genoem te word, die WP die WP, en die Haaie
iets wat met die kus verband hou. Plattelandse bonde kan as kwalifiserende
hinterland aan die topbonde toegewys word.
Kortom, eie talent sal beter bestuur word, want daar sal ‘n aanvraag na wees.
Of Suid-Afrikaanse spanne dit nodig behoort te vind om buitelandse spelers in te
sluit, is ‘n ander vraag. Spelers van Namibië is een saak, maar om Argentyne,
Suidsee-eilanders, Franse of wat ook al in te voer, is ‘n heel ander saak.
Of dit regtig onvermydelik is dat ‘n Springbokspan in Engeland ‘n
“opwarmingswedstryd” teen ‘n klubspan gaan speel en hom dan vasloop in ‘n
oud-Springbokspan, is nog ‘n vraag wat kopkrap verdien.
Is daar in die beroepsera dan geen ruimte vir minstens ‘n element van
tuisgemotiveeerdheid nie? Al is dit bloot terwille daarvan om die skare nie vir die
gek te hou nie?
Is dit nie bietjie laf as stringe WP-ondersteuners die lang pad aandurf om te kom
kyk hoe “hul” span teen die Vrystaat speel nie, maar van heelagter Frikkie Naudé
af via Dawie Snyman, Morné du Plessis, Theuns Stoffberg tot Henning van
Aswegen is daar 13 spelers in die span wat Vrystaatse bande het nie?
Selfs die vermaarde dr. Danie Craven het uit die Vrystaat gekom.
Die hartseer is dat die WP ontsettend baie eie talent het. Toe Rassie Erasmus
(ja, ook uit die Vrystaat) Kaap toe is om af te rig het hy hom voorgeneem om
plaaslike talent te identifiseer en te ontwikkel. Met sy jaarlikse inkopielys lyk dit
nie of dit werklik gebeur nie. Dit lyk of slegs ‘n “kwotastelsel” sal verseker dat
plaaslike talent in elke bond nie verlore sal gaan nie.
Baie faktore maak dat talent nie raakgesien word nie. So hoor die oom van ‘n
blink skolespeler hoe iemand vir ‘n keurder sê hy moet tog dié nefie dophou wat
uithalerspel lewer. Maar hy hoor ook die keurder sê: “Maar hy kom nie van Grey
af nie.”
Miskien het so iets ‘n rol gespeel dat Morné Steyn nou vir die Bulle die Vrystaat
so uitmekaar speel.
Of hy speel vir ‘n kleiner skool uit sy beste posisie omdat die skool dalk nie ‘n
beter speler vir die posisie het nie.
Of hy pas nie in die afrigter se spelpatroon nie.
Of sy beste posisie is dieselfde as die span se ras-kwotaspelers.
Is daar nog ruimte vir sportmansgees ook?

99
Maar die Arsenal – Portsmouth-wekker herinner aan wyle oom Jurie se wysheid
toe hy hoor die Britse Eilande is gedurende ‘n swaar ystydperk weens die gewig
van ys op die Noordpool onder die see uitgedruk.
“Dis darem die slegste ding wat die ys nog onder die see uitgedruk het.”
Maar moenie wharrie nie, een van die dae is daar nie meer plek vir Engelse nie.

Hoogspanning ter see


Nee, nie nog ‘n seerowervoorval nie.
Met windparke in die Noordsee word al meer en meer besef dat ‘n behoorlike
windkragopwekking ‘n beduidende aantal groot windpark ter see gaan vereis, en
dat dit weer tot ‘n behoorlike hoogspanningsnetwerk ter see aanleiding moet gee.
Die eerste samesprekings vind volgende maand plaas, maar volgens berigte
moet die plan self nog gemaak word.

Click to view large

Enkele kabels is reeds gelê, maar is tot dusver die gevolg van bilaterale
samewerking, soos die kabel tussen Nederland en Noorweë, asook tussen
Noorweë en Brittanje.
Nou moet nege lande wat aan die Noordsee grens koppe bymekaar sit.
Dat Noorweë reeds per kabel met lande suid daarvan verbind is, het te make met
seisoenale opwekking en gebruik. Wanneer die ys smelt, het Noorweë ‘n groter
aanbod aan hidro-elektriese krag as sy eie verbruik, terwyl lande in die suide
weer in die winters elektrisiteit van gasterbunes en ander fosielaandrywing, of
selfs kernkragsentales in die teenoorgestelde rigting onderdeur die Noordsee
kan laat loop.
Groot windparke ter see vergemaklik die proses om krag beskikbaar te hê om te
aat vloei na waar dit benodig word, en Nederland sien vir homself ‘n beduidende
rol as “hub” hiermee. Maar dan moet al die windparke in die Noordsee aan een
netwerk gekoppel word.
Van hierdie “krageiland” sal nie net die opwekking en geleiding van windenergie
beheer word nie, maar ook krag wat deur gety-opwekkers opgewek gana word.
Uiteindelik, so word gehoop, sal genoeg krag beskikbaar wees om ook aan Oos-
Europa te voorsien.
Dit laat die vermoede bestaan dat die bekendmaking van inligting oor hierdie
planne bedoel is om saam te val met kommer oor die houvas wat Rusland via
gasvoorsiening op voormalige Sovjet-republieke en Oos-blok-satellietlande het.

100
‘n Krisis het juis pas weer ontstaan toe Rusland en Wit-Rusland haaks geraak
het, wat weer moontlik ‘n invloed op die huidige styging van ru-oliepryse het.
Die noordsee-hoogspanningsplanne is egter nog ietwat in die verskiet. Waar
twee Nederlandse windplase ter see nou saam sowat 2000 Megawatt opwek,
word die teiken van 6 000 teen 2020 gestel.
Ook die naasliggende België is besig om windparke ter see op te rig. Die jongste
planne is van die firma Electrawinds wat op die Bank Zonder naam, sowat 37
kilometer see in op te rig. Hierdie projek, Elctrawinds se eerste ter see, sal na
verwagting sowat krag vir 200 000 huishoudings opwek. Ander projekte is ook in
die proses of beplanning, met ‘n totaal van vier windparke wat eersdaags krag
sal lewer.
Omgewinstudies toon boonop dat die oprigting alge aantrek, wat weer tot ‘n
toename in visbevolkings lei.
As’t are die vang van twee zoute harings met een windmole.
Onder die Britse projekte tel een, die Londen Array, onder die bekendstes.
Hierdie beoogde projek aan die monding van die Teems, sal na verwagting ‘n
Gigawatt kan opwek, genoeg om ‘n kwart van Londen se huishoudings te bedien.

Nuuskommentaar: Inligting en die stryd teen terreur


Twee berigte vanoggend in die Nederlandse koerant, Trouw, en ‘n artikel in
Volksblad op dieselfde dag, trek vroeg in die nuwe jaar die fokus op iets wat die
wêreld skynbaar nie afgeskud kry nie – internasionale terreur.
Waar internasionale terreur in die laat 20ste eeu ‘n allegaartjie van harde
Marxiste, ideologiese idealiste met ‘n stywe kwota anargisme, bedorwe
rykmanskinders en ‘n diep verankerde Midde-Oosterse geweldsresep was, het
die huidige vlaag ‘n meer uniforme ondertoon – ‘n Islamitiese fundamentalisme.
Waar klein groepies soos die Baader-Meinhoffs, die Japannese Rooi Leër, die
Tupamore’s, Monenero’s, verskeie Palestynse groepe, die Ierse Republikeinse
Leër en veral Inla, die Baskiese ETA en die Italiaanse Rooi Brigades die
verbaasde wêreld laat wonder oor waar die volgende aanslag gaan plaasvind, en
die Armeense groep ASALA kort-kort ‘n asembenewende aksie uitgevoer het,
het hulle min in gemeen gehad behalwe dat hulle oor landsgrense heen
saamgewerk het.
Vandag oorheers Osama bin Laden se Al Kaïda die toneel en talle organisasies
wat ook die aandag trek, soos die Boko Karam, Sjabaab en ander word ook met
Al Kaïda geassosieer. Hul neste strek van Somalië na Nigerië na Jemen en
verskeie ander lande.
Die Baskiese groep, Eta, het nog nie heeltemal sy terreur links laat lê nie soos
verlede jaar se reeks aanvalle tydens dié organisasie se 50ste bestaansjaar
getuig. Ander terreurgroepe wat die nuus haal, dikwels weens hul aanvalle op
joernaliste, soos dié in Mexiko, Colombia en Venezuela word meestal na
dwelmkartelle herlei.
Met die ou generasie plaag het terroriste waarskynlik veel meer reaksie ontlok as
wat hul werklike operasionele vermoëns op die oog af vereis, maar weens hul
gewetenloosheid, soos aanvalle op passasiersvliegtuie, moes state
noodgedwonge reuse uitgawes aangaan om veiligheidsmaatreëls en veral

101
inligtingstelsels tot stand te bring. In die proses moes selfs ernstig ingekort word
op juis die waardes van vryheid wat die geteikende lande so verdedig het, soos
persvryheid. Die VSA en Brittanje, wat ten nouste by die oorlog teen terreur
betrek word, deel die 20ste posisie op die persvryheidsindeks, terwyl lande soos
Finland en Noorweë wat nie betrokke is nie, die eerste plek deel.
Die huidige aanslag verg ongelukkig ook ingrypende maatreëls wat burgers van
baie veronderstelde vryhede stroop. Die skandeerders wat nou benodig word om
die nuwe generasie plofstof op te spoor wat terroriste aan boord van vliegtuie
probeer smokkel, is omstrede, en word selfs as strydig met wetgewing teen
kinderpornografie vergelyk.
Vanoggend word berig dat een van die terroriste wat in verband met die Twin
Tower-aanval in 2001 aangekeer is, se lewenslange gevangenisstraf deur ‘n hof
bekragtig is. Zacarias Moussaoui, die sogenaamde 20ste terroris, het sy saak
probeer heropen deur sy aanvanklike bekentenisse terug te trek.
Op dieselfde dag berig Trouw egter ook dat die Amerikaanse dinkskrum, Center
for a New American Security, in ‘n verslag verdoemend bevind oor hoe swak die
Amerikaanse inligtingsdiens, of soos dit deesdae in Suid-Afrika genoem word,
intelligensiediens, se inligting oor Afganistan is. Die verslag het ‘n week na ‘n
selfmoordbomaanslag deur ‘n dubbele spioen op ‘n CIA-basis verskyn. Agt
mense het in die aanslag omgekom.
Volgens die sentrum kan die CIA nie genoegsame intelligensie versamel om die
Amerikaanse president en bevelvoerders in staat te stel om behoorlike ingeligte
besluite te neem nie.
Hoe objektief die sentrum is, is onmoontlik om te bepaal, maar onderstreep
nogtans ‘n waarheid: Om internasionale terreur doeltreffend operasioneel te kan
hokslaan, moet uiters doeltreffende intelligensie beskikbaar wees. Die alternatief
is om elke denkbare teiken te probeer beskerm, iets wat haas onbegonne is
gegewe die uitgerekte tuisfront wat aangeval kan word.

Rasbeheptheid
Oproep om die herstel van suiwer politieke wetenskap
Twee beroepe word baie dikwels die teiken van onkundiges wat eiertjies lê: Die
politieke wetenskap en die joernalistiek.
Ironies is dit dikwels politici wat eiertjies oor die joernalistiek lê, maar, sal die
politieke wetenskaplikes sê: “Ditto”?
Geen motorwerktuigkundige sal immers droom om by ‘n opehart-operasie te
gaan assisteer nie.
Die politieke wetenskap in praktyk word egter in Suid-Afrika vanuit ‘n ander oord
geërodeer, naamlik die juridiese veld. Dit manifesteer hom in verskillende velde,
soos die huidige debat oor groep- en individuele regte, en het ook pas in ‘n
rubriek van Beeld se Ferdi Greyling onbedoeld na vore gekom.
Dit volg kort na ‘n rubriek van sy kollega van Die Burger, Zelda Jongbloed. Die
verband word aanstons getrek.
Politieke Wetenskap, soos wat dit tot die tagtigerjare aan veral sommige
universiteite gemanifesteer het, het self die kiem van verskraling gedra. Kovsie-
studente moes byvoorbeeld in hul eerste jaar leer of pluk oor die Christelike

102
beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling. Hierdie
wet van die Mede en Perse het die leerplan vanuit die doktorsverhandeling van
een van die dosente binnegedring (‘n opgeleide juris), en terwyl hierdie studente
later hoog en droog gestrand gelaat is, het die dosent self politikus geword en
later selfs in ‘n provinsiale Uitvoerende Raad onder ‘n ANC-premier gedien.
Ligjare verwyder van die era toe hy studente geleer het swart mense is
beskawingsvreemd en bruin mense beskawingsonmondig.
Nie al die universiteite het hierdie Dooyeweerdse inslag beleef nie (en ‘n mens
wonder of Dooyeweerd self bewus was dat sy leerstellinge gebruik is as
Christelike fundering vir apartheid).
Die een oomblik is studente aangemoedig om staatsleer, soos dit destyds
genoem is, te studeer, want “die land het julle nodig,” en die volgende oomblik
moes hierdie gekwalifiseerdes op ander opleiding en vaardighede terugval om
werk te kry.
Dit is bykans ondenkbaar om te dink dat vakkundiges in die
Menseregtekommissie en die Openbare Beskermer nou enige ander kwalifikasie
as ‘n regsgraad sal hê (met LlB deesdae ‘n driejarige gedoentejie sonder Latyn).
As objektief gekyk word – rus ‘n regsgraad iemand beter toe om ‘n ondersoeker
te wees na hoe ‘n sekere soort misdaad gepleeg word? Tel die
ondersoekvaardigheid, soos in die geval van ‘n joernalis, nie ook punte nie? In
sommige gevalle, beslis ja. Maar enigeen wat al met die Openbare Beskermer te
make gehad het, sal ook kan vertel van frustrasies omdat ondersoekers nie
verstaan hoe om vas te stel dat busdienste staatsubsidies kry en dus binne die
ondersoekraamwerk van die instansie val; nie.
Kortom, ‘n gebrek aan ander vaardighede beperk die operasionele vermoë van
instansies soos die Openbare Beskermer. Dan gebeur dit dat sommige sake
langer as 13 jaar neem om af te handel.
In die middel van die destydse Presidentsraad se Maatskaplike Komitee se
ondersoek na die Verhoudingsaksie het pres. F.W de Klerk die president geword,
die ondersoek opgeskort, die Verhoudingsaksie kort hierna opgeskort, en die
Vredeskomitees oornag aan die werk gesit. Nie ‘n enkele kundige van die
Verhoudingsaksie is by die ontwerp of uitvoering van die Vredeskomitees betrek
nie.
Behalwe ervaring, opleiding en verworwe kundigheid was die onderskeid dat die
Verhoudingsaksie meer holisties na die dinamika van versoening en gesonde
tussengroepverhoudinge gekyk het, en die Vredeskomitees sterk afgestem is op
‘n juridiese (grondwetlike) skikking van finaliteit.
Een van die sake wat sterk by die Persidentsraad ingevoer is, was ‘n waarheid
van ‘n voormalige president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt. Hy het by
geleentheid iets geskryf tot die effek: “As groepe mekaar nie verstaan en vertrou
nie, dan sal selfs die beste grondwet in die wêreld doodeenvoudig nie werk nie.”
Om dus die juridiese veld as die alfa-oplossing voor te hou, in plaas van ‘n
holistiese benadering waar ander dinamikas soos die trajek van relatiewe
deprivasie, ruimtelike ordening, kultuur en vele meer ‘n rol speel, was gebrekkig.
Dit dra in beginsel die fisiologie van versoening wat faal.

103
Een van die groot voorstanders van ‘n staatsbestel wat nie volledig juridies
verslind is nie, is prof. Marinus Wiechers, afgetrede hoogleraar in Staatsreg. Hy
wys byvoorbeeld daarop dat dit in ander lande praktyk is dat sommige van die
regters van grondwetlike howe uit ander spesialisvelde as die juridiese kom, en
dat die Suid-Afrikaanse grondwet ook hiervoor voorsiening maak (art. 174 (5)).
Hy meen die volledige laai van die Grondwethof met juriste verskraal die
bedoeling van die hof.
Wanneer politieke wetenskap volledig herstel is, kry verwante vakgebiede soos
die politieke sosiologie, die politieke geografie en selfs politieke ekonomie weer
‘n bestaansruimte.
Ook die staatsreg word bevry van ‘n enkellopende gesigsveld.
Studente in Staatsreg word nou vir ‘n baie groot deel van hul studies in wese
vasgevang by dit wat met die Handves van Menseregte verband hou, wat in
werklikheid ‘n klein deeltjie daarvan behoort te weet. Indien die staat in sy geheel
nie behoorlik grondwetlik gerig is nie (wat belangrike ongeskrewe sake met
juridiese binding soos konvensie insluit) en die beginsels van die trias politica
geërodeer word, beteken ‘n handves van menseregte niks.
Dit is hier waar die politieke wetenskappe die alarms moes laat afgaan het. Waar
was die hoogleraars en dosente in politieke wetenskap met die Selemane-
aanstelling?
Die trias politica is nie iets wat in die grondwet hoef te staan nie. Die erodering
bly verkeerd.
Die politieke wetenskap en die staatsreg kan saam bepaal waar die grense van
mag en die manifestasie daarvan gekodifiseer moet word. Om te demonstreer: In
Suid-Afrika word om verskeie redes hewig geargumenteer dat sekere magte in
die onafhanklike howe en regspraak verskans moet wees, terwyl die
teenoorgestelde argumente in Australië aangevoer word waar geargumenteer
word die parlement, wat verkies word, is die finale demokratiese gesag en nie die
howe wat deur regsgeleerdes beheer word nie.
Vanuit die staatsregtelike benadering kristalliseer naas individuele regte ook
minderheidsregte na vore, wat kollektief as menseregte bekend staan. In ‘n
oordrewe juridiese raamwerk word vereis dat minderheidsregte slegs deur ‘n
minderheid opgeëis kan word as dit as regspersoon kan bestaan. Hoewel dié
benadering in ‘n stadium sterk gestaan het weens die invloed van die eertydse
hoogleraar in Staatsreg, en later adjunk-minister van Grondsake, Dirk du Toit, en
onbedoeld onderskraag is vanuit die veld van filosofie deur onder meer prof.
Danie Strauss, het dit in terme van die Volkereg van die radarskerms verdwyn.
Vanuit die terrein van die Politieke Wetenskap, met veral die deel wat in die
Volkereg (of Internasionale Reg) veranker lê, geld die beginsel van groepregte.
Voor na die manifestasies gekyk word, word dit dadelik gestel dat die volkereg
en ander vorme van transnasionaal-geldende regsbeginsels, nie ras as norm
erken nie.
Partye en instansies wat hul beleid op die uitbou van groepregte baseer, skram
dus in beginsel weg van die term ras. As iemand byvoorbeeld na die VF+ se
beleid op dié party se webwerf gaan kyk, gaan lank gesoek word om enige
verwysing na ras te kry. Dit kom wel voor, veral in mediaverklarings van

104
studentetakke wat nog nie die sensitiwiteit aan die dag geleer lê het nie. Dit
beteken nie dat ras nie tog maar ‘n belangrike rol in mense se denke speel nie,
binne en buite die die VF+.
Byvoorbeeld: Met die ontknoping van die koshuisintegrasie-kwessie by Kovsies
het die ACDP ‘n mediaverklaring uitgereik om te vra vir koshuise vir toegewyde
Christene. Die ACDP is hard deur die DA gekap oor die ACDP se “rassisme.” Die
enigste rasdenke hier was in die koppe van die DA. Die ACDP sou immers
kwalik in die praktyk selfs subtiel verskillende koshuise vir sy leier (swart) en
voorsitter (wit) kon bedoel het, of gesuggereer het.
Uit Greyling se rubriek word die afleiding ook gemaak dat hy dr. Pieter Mulder se
aandrang op groepregte as ras-gedtermineerd verstaan. Mulder sal waarskynlik
self heftig hierop reageer. Die voorbeelde wat Mulder deurgaans gee, soos die
Baskiese, Skotse, Belgiese en ander verwikkelings, het met ras niks te make nie.
Naas bepalings in die Europese grondwet (wat immers nie as rassisties of
verouderd beskou kan word nie) is die ondervanging van groepregte in
grondwette ‘n algemene meganisme om konflik te voorkom. Indië se besluit
einde verlede jaar om nog ‘n (etniese) deelstaat in die suide te skep het immers
niks met ras te make nie. Die naaste wat in terme van ras geargumenteer kan
word, is die aantal verskanste setels in Indië se nasionale parlement vir lede van
die klein minderheid pre-Indiese bevolking (oorspronklike bewoners).
Ander lande het ander meganismes hiervoor, soos die Maori-raad (soms
parlement genoem), en die staatsregtelike bevoegdhede waaroor Indiaanse
reservate in die VSA beskik.
Uit Jongbloed se rubriek kom die volgende aanhaling: “Ek kan nogtans nie dink
dat ek myself nie in die komende jaar oor omstrede kwessies sal uitlaat nie. Soos
oor rassisme en Julius Malema; oor André P. Brink se beurs-meevaller (wetende
dat Marjorie Wallace ’n nalatenskap eintlik vir bruin skrywers beoog het [erken hy
self]); oor regstellende aksie.”
Op die oog af lyk dit na ‘n voorneme om rassisme te bestry deur self
rasgeörienteerd te wees.
Ras kán, soos die volkereg vereis, buite spel geplaas word. Onlangs het Marida
Fitzpatric in By die bliksem in gaan raak, en onder meer na die sosio-
ongelykhede tussen wit e swart verwys. Hierna kom Die Burger se Ilse Bigalke in
‘n rubriek aan die beurt en raak dieselfde kwessie aan sonder om dit met ras in
te kleur.
Om minderheids- of groepregte te beding, vereis ongelukkig dat tydig en ontydig
gesê moet word dat dit niks met ras te make het nie. ‘n Strategiese verswyging
hiervan om nie ondersteuners te vervreem wat wél rasgeörienteerd dink nie, bied
aan opponente die ruimte om ras daarin te lees, ten regte of ten onregte.
Teoreties is daar ‘n onregstreekse neerslag van groepregte in die Suid-
Afrikaanse bestel, soos onder meer die erkenning van elf amptelike tale en die
bestaan van Pansat. Die blote feit dat Pansat kan sê die staat self is die grootste
oortreder van die grondwetlike taalbepalings is ‘n aanduiding dat gebrekkig
onderhandel is.
Suid-Afrika is grondwetlik gebonde aan internasionale verdrae waartoe dit
behoort. Een hiervan is sy lidmaatskap van die Afrika-Kommissie vir Mense- en

105
Groepregte. Trouens, Suid-Afrika het ook reeds die voorsitterskap hiervan
behartig.
Greyling wys op die tweesnydende karakter van groepregte. Die Volkereg
verbied diskriminasie teen groepe, en diskriminasie teen ‘n groep vestig juis sy
volkeregtelike reg tot sesessie. Tweesnydend bly dit egter – sou daar in so ‘n
gesesseerde gebied weer ‘n minderheid wees teen wie gediskrimineer word,
verwerf hulle op hul beurt die reg op sesessie. Om ‘n hipotese te gebruik – sou
Orania kon afskei, maar daar is ‘n aantal bruin mense in die gebied, kan hulle as
hulle voel hul regte word hoegenaamd aangetas weer die reg op sessie vir
byvoorbeeld ‘n Griekwa- of Korannagebied opeis.
Die politieke wetenskap maak egter vir talle ander modelle as sesessie
voorsiening, soos konsosiatiewe selfbeskikking (bv die Maorie-kongres).
Turkye moet maniere vind om onder meer sy Koerdiese minderheid staatkundig
te akkommodeer omdat die Europese grondwet dit as vereiste vir lidmaatskap
stel.
Hoewel die Baskiese terreur afgeneem het na Franco se dood en die Baskiese
provinsies streeksoutonomie gekry het, het ETA verlede jaar nog tydens sy 50ste
bestaansherdenking, steeds verskeie dade van terreur gepleeg. Dit beteken
daar is minstens sommige Baske wat nog groter onafhanklikheid wil hê. Onlangs
het verskeie Kataloniese dorpe tydens ‘n referendum vir volle onafhanklikheid
van Spanje gestem.
Hoe die “dice” val bepaal dikwels die vlak van outonomie van ‘n groep. Die
Tamils van Sri Lanka is ‘n minderheid, en irridentiese denke met volksgenote in
Indië is verlede jaar militêr die kop ingeslaan. Het Sri Lanka as deel van Indië
onafhanklik geword, was die Singalese weer in terme van hul staatsbestel ‘n
minderheid, en sou die Singalese in alle waarskynlikheid op streekoutonomie op
‘n deel van die eiland aangedring het.
‘n Scenario: Gestel Suid-Afrikaners kan ras as bepalingsnorm afskud,en ‘n
grondwetlike bestel wat vir beduidende groepregte voorsiening maak, kom tot
stand. Hoe gaan middelpuntsoekende en middelpuntvliedende kragte teen
mekaar opweeg?
Miskien gee ‘n baie ou model ‘n paar antwoorde. Die Asteekse en Inka-ryke was
ook heterogeen waar die “sentrale regering” die “deelnemende volke” min of
meer uitgelos het om hul eie kulture te beoefen. (Die Asteke het wel ‘n meer
uniformige godsdiensbedeling vir sy ryk probeer invoer). Die Inkas het ‘n gulde
geleentheid vir sy eie ontwikkeling verspil toe die beskawing aan die oewers van
die Titicacameer ingesluit is, maar die skrif by wyse van spreke aan die muur
gebly het. Vandag is dit steeds onontsyferbare hiërogliewe, en die Inkas het tot
hul eie nadeel met die beperkte “skrif” van knope in toutjies aan stokkies
voortgegaan.
Die werklike middelpuntvliedende kragte het daarin bly lê dat die sentrale
owerhede die ryke as bron van belastinginkomste beskou het. Hernan Cortez
kon dus met betreklike min moeite onder die onderhorige stamme bondgenote
teen die Asteke werf.

106
In kort, tot die Afrikaner / Afrikaanssprekende se bydrae tot die Suid-Afrikaanse
ekonomie onbenullig word, sal ‘n regering wat heerlik soustrein ry, niks wil weet
van om die Israeliete, by wyse van spreke, na hul beloofde land te laat trek nie.
Na watter kant ook al gekyk word – middelpuntsoekend of middelpuntvliedend –
Suid-Afrikaners moet eers leer om buite die rasse-kassie te dink. Eers wanneer
die grondslag vir gesprekvoering volkeregtelik fatsoenlik is, kan ‘n nuwe Codesa
die speelveld betree.
Die keer, sal dit nie skade doen om wyer as juridiese wigte en teenwigte te kyk
nie. Die politieke wetenskap, en ook die wyer konsep van politieke wetenskappe,
bied baie meer opsies om op die tafel te plaas – opsies wat elders in die wêreld
reeds gelouter is en in konvensie en grondwette bestaan. Moderne grondwette.
Of Suid-Afrika gereed is om buite die rasse-kassie te dink? Nie as ‘n mens die
internet-geskrifte uit die dampkring van die Boere-Afrikaner lees nie. Dit raak
eerder dieper verskans. Nie as mens na die anti-rassiste kyk nie, wat ras as
norm wil gebruik soos die teenstanders van die doodstraf wat hul sin probeer kry
om die voorstanders van die doodstraf op te hang. En nie as mens kyk na die
rasseretoriek van mense soos Malema nie.
Om eenmalig ‘n dekreet uit te vaardig wat nie-rassigheid beslag gee, sal in die
praktyk min oplewer as dit in die harte van mense voortleef nie, en dit sal nog
minder werk as daar steeds wette is wat ras as norm gebruik.
Infasering, so lyk dit, sal ook broekskeur gaan. Sou daar byvoorbeeld bepaal
word dat daar vanjaar een “nie-rassige” maand sal wees, volgende jaar twee, en
so verder kan mens sterk aan die dink sit – tot dit kom by ‘n wit werksaansoek in
‘n nie-rassige maand, ‘n sportspan wat gekies kan word in ‘n maand waar slegs
meriete tel, of keuring vir ‘n studierigting gedoen word waar kwotas geld. ‘n
Interessante oefening sal ook wees om te bepaal dat daar byvoorbeeld elke jaar
twee minder rasgebaseerde instansies moet wees, soos die Black Management
Forum, die Black Lawers Association, die Black Journalist Society” en so aan.
Trouens, selfs die gedagte van die uitfasering van kwotas by byvoorbeeld
mediese studies loop die teenoorgestelde rigting as wat ‘n mens normaalweg
sou verwag. In plaas van afloop, word kwotas verhoog.
Die gebruik van eufemismes vir ras soos “voorheen agtergeblewe
gemeenskappe” klink na bykans twintig jaar (die laaste apartheidswet is ruim
voor 1994 afgeskaf) begin nou al verspotter en van enige sweempie van
fatsoenlikheid gestroop.
Daar is ‘n tweesnydende swaard. Inderdaad.

Zelda, jy mag maar jou pen in gal doop, maar los ras as norm
In die internasionale politiek word gereeld gesê alle state is gelyk en ongelyk
tegelyk.
Suid-Afrika probeer van rassisme dieselfde maak, of juis die teenoorgestelde te
doen, afhangende van watter kant van draad ‘n man staan en beoordeel. Rassig
en nie-rassig tegelyk wees.
Zelda Jongbloed, adjunk-redakteur van Die Burger, skryf in haar eerste
nuwejaarsrubriek dat sy soms wonder of dit die kool die sous werd is om te skryf
oor sake waaroor ‘n mens sterk voel, en dan daarvoor slae op die hals te haal.

107
Dat sy soms slae kry, is bekend.
Maar lê die antwoord nie dalk opgesluit in die volgende sin uit haar pen nie: “Ek
kan nogtans nie dink dat ek myself nie in die komende jaar oor omstrede
kwessies sal uitlaat nie. Soos oor rassisme en Julius Malema; oor André P. Brink
se beurs-meevaller (wetende dat Marjorie Wallace ’n nalatenskap eintlik vir bruin
skrywers beoog het [erken hy self]); oor regstellende aksie.”
Sien u die teenstrydigheid? Sy wil haar teen rassisme uitspreek, maar opper dan
die omstrede André P. Brink-beurskwessie en regstellende aksie.
Sy is nie al mens wat Jan Rabie en sy vrou Marjorie Wallace geken het nie.
Trouens, mense wat Rabie se boeke gelees het kom reeds ook veel te wete van
hoe kompleks Rabie na sake van ras gekyk het. Soos sy vertelling van sy
besoek aan prof. Jakes gerwel by ‘n elite bruin oord, en die ontvangs wat hy by
toegang gekry het van iemand wat pas tevore nog in sy tuin gewerk het, en hy,
jan, oplaas, die groen lig kry om in te gaan na die prof laat weet het dis reg.
“Ride in.”
Teenoor die uwe het hy hom ten gunste van volledige Afrikaanse integrasie –
d.w.s. wit en bruin uitgespreek. Oor swart mense was Rabie in geheel nie baie
uitgesproke nie.
Sou Rabie dan anders as Marjorie gevoel het oor ras? My indruk is dat Rabie
behoeftige Afrikaanssprekendes onder dieselfde kam sou skeer ongeag of hulle
wit en bruin is.
Zelda het oorgenoeg ruimte gehad om die toekenning van die beurs aan Brink te
betwis anders as deur na ras te verwys. Deur dit te doen frustreer sy juis die kern
van dit wat sy aanspreek.
Die ANC spreek hom gereeld uit oor die skepping van ‘n nie-rassige Suid-Afrika
maar stel dan die mees drakoniese rassemaatreëls in om dit af te skaf. Dit is
soos iemand wat gekant is teen die doodstraf wat almal wat ten gunste van die
doodstraf is, laat ophang.
Onlangs het Marida Fitzpatrick in By op die Boetmanwa probeer ry, waarin sy as
Sus ook die bliksem in geraak het, maar meer mense die bliksem in gemaak het.
Sy het ‘n geldige punt – die verskil tussen die wat het en die wat nie het nie,
gaan inkleur en sodoende ‘n onnodige raskonnotasie gaan gee. ‘n Paar weke
later wys nog ‘n vrou, Ilse Bigalge, assistent-redakteur van Die Burger, hoe
presies dieselfde saak aangespreek kan word sonder om in letter te verval in die
bysleep van ras.
Die soustrein is al gans te lank, te veel swart mense het dit al na die bopunt van
die ekonomiese spiraal gemaak, en die Danville’s, Watheystrate, Wolmers en
ander al te veel uit hul nate gebars om steeds veralgemeend na armoede en
rykdom as ‘n wit-swart-verskynsel te verwys, al dui statistiek te ene male daarop
dat dit grootliks ‘n raskwessie bly.
Om een groep wat in ‘n groter mate as ‘n ander ‘n hoër sosio-ekonomiese vlak
beklee as ‘n ander groep, te ondermyn spreek nog nie baie van die sosio-
ekonomiese kwessies aan wat die ander groep breedweg terughou nie – anti-
kulturele praktyke wat van geslag tot geslag oorgedra word wat in naweek-
drankmisbruik, Tikgebruik, swak kerkbywoning, gebrekkige skoolbywoning en
vele maar neerslag vind nie. En nee, dis nie maar ‘n paar los rassistiese

108
opmerkings nie, dis die politieke inkorrekte aanwending van bestaande
maatskaplike en sosiologiese studies. Dit het in beginsel niks met ras te make
nie.
Dit vir soverre dit handel oor die kwessie van rassisme te wil aanspreek deur self
‘n groot rasbewustheid aan die dag te lê. Eintlik meer – om ras as norm te
gebruik wat verder as ‘n pragmatiese verwysingsraamwerk strek.
Die tweede aspek: Om slae te kry oor iemand se opinies.
Na die beste van my wete was die felste kritiek wat sy ontlok het, ‘n rubriek
waarin sy boere oor die hantering van hul werkers aangespreek het. Dié rubriek
het naas in Die Burger, ook in Volksblad verskyn en so onder my aandag gekom.
As iemand wie se familie boer, en werklik nie hul plaaswerkers swak behandel
nie en nog minder mishandel, maar al onder verskeie plaasaanvalle deurgeloop
het, was dit soos ‘n rooi vlag.
Ook my pen is op papier gesit sonder om eers afstand te kry.
Na strome kritiek verweer sy haarself: Sy het as kind op skool een geval beleef
van waar ‘n skrander seun nie sy potensiaal kon bereik nie omdat die boer hom
“teruggeroep” het om te kom werk.
Een geval, lank, lank gelede.
Onlangs het ek opnuut bewus geword van hoe gevaarlik dit is om selfs ‘n intieme
eerstehandse ervaring van lank gelede op vandag van toepassing te maak.
Ek is nie net na ‘n internasionale kongres genooi nie, maar ook genooi om ‘n
“paper” vir keuring voor te lê. En al weet ek die uitnodiging was ongeveer net so
‘n groot fout en onbedoeld soos Genis van Koöperasiestories-faam se uitnoging,
as burgemeester, na ‘n wynproe-ding in die Kaap, maak ek ook soos Genis en
kyk of ek dit nie dalk tog kan regkry nie. My enigste raakvlak-wetenskap is
geomorfologie, met meer spesifieke verwysing na die aarde se magnetosfeer.
Dit was meer as dertig jaar gelede se studies, en sedertdien het ek heeltemal in
ander rigtings gespesialiseer. Maar ek hét die “papiere” en begin werk aan die
“paper.” Toe ek begin oplees, kom ek agter my kennis is nie net erg verroes nie,
maar erg verouderd.
Wat is feite oor hoe boere in die Wes-Kaap hul werkers behandel, en van ‘n veel
meer resente aard as Zelda se skoolgaandae?
Die feit is dat Agri-Wes-Kaap, in die dae toe Cobus Dowrey Wes-Kaapse
Minister van Landbou was, so moeg geraak het vir al die bewerings oor die
mishandeling van plaaswerkers, dat Dowrey genader is en ooreengekom is om
die kwessie gesamentlik te ondersoek. Binne ses maande is meer as 80
beweerde voorvalle deeglik ondersoek, en drie het in die hof gedraai. Al die
gevalle, ook dié in die hof, is as opgemaakte sake uitgegooi. Dit sê nie daar is
nie individuele gevalle nie, maar elke beroep lewer sy vrot appels op.
Verder, omdat Wes-Kaapse boere baie afhanklik van uitvoere is, is hul beeld in
die buiteland besonder belangrik, en ‘n swartsmeerdery is erg skadelik. Hulle
werk dus saam om die vrot appels te ontmasker.
Maar na hierdie meer as tagtig gevalle binne ses maande as vals bewys is, vind
die nasionale Grondberaad plaas en ‘n klomp mense uit die Wes-Kaap bestyg
die verhoog en gaan verkondig die reeds gediskrediteerde gevalle asof dit die
evangelie is.

109
Toe kom Minister Lawwe Lulu op Kerkplein, en maak ook sulke stellings. Dit was
ook op een spesifieke geval gerig. Hierna blyk dit die Onafhanklike
Klagtedirektoraat het die betrokke voorval ondersoek, en dit as vals bevind. Dié
verslag was reeds vyf maande tevore aan die regering oorhandig toe Lulu die
bewerings geopper het, en boere oor die algemeen gestriem het.
Die klaagster in die saak het boonop tot bekering gekom en die boer om
verskoning gevra, en verduidelik hoe sy deur ‘n NRO voorgesê is.
In die Wes-Kaap bestaan ‘n horde sulke NRO’s wat deur Cosatu en buitelandse
instansies gefinansier word met die uitsluitlike taak om die mishandeling en swak
behandeling van plaaswerkers uit te snuffel en aan die groot klok te hang. Is daar
nie gevalle nie, verdwyn die bestaansreg van hierdie organisasies.
En hierna het Zelda se rubriek verskyn.
Toegegee, binne die wit en bruin gemeenskappe bestaan breedweg verskillende
persepsies oor wat presies op plase in die algemeen aangaan. Dit is ook goed
dat die een groep bewus moet wees van die ander se persepsies. Deur dit
eensydig te beoordeel, dien egter nie die waarheid nie, en maak nie van die
skrywer ‘n tweede Rhoda Kadalie nie.
Zelda raak egter aan nog ‘n kwessie – Zuma se soveelste huwelik, of dan eintlik
maar die kwessie van poligamie, en die invloed wat dit op belastingbetalers en
die land se buitelandse beeld het. Haar beklemtoning van respek vir verskillende
kulture klink byna soos apartheidsretoriek, hoewel sy dit nie so bedoel nie.
Daar is egter belangrike kwessies uitstaande: Wat sê die reg oor poligamie? Is
dit hoegenaamd wettig en is dit nie strafbaar nie?
Behalwe ‘n horde vrae oor die voorbeeld wat ‘n regeringshoof ten opsigte van
wetsgehoorsaamheid moet stel, is daar ‘n duisternis vrae. Soos die skynbare
dawerende swye van kerke hieroor. Het Rhema ‘n bietjie betig?
Dit beteken nie ‘n mens moet onsensitief oor kultuur wees nie. Inteendeel, vroeër
jare se sendelinge in Wes-Afrika het die Christendom waarskynlik baie skade
berokken deur pas-bekeerde hoofmanne te dwing om van hul “surplus” vroue
ontslae te raak en sodoende hulle en hul kinders in uiterste ellende te dompel.
Maar nou is daar darem ‘n verskil. Zuma maak daarop aanspraak dat hy reeds ‘n
Christen is, en hy is kort voor die algemene verkiesing selfs ere-pastoor in ‘n
Zoeloelandse kerk gemaak.
Die kerke se swye hieroor en ander sake laat my nogal dink aan hoe ek, destyds
as Dopper, geamuseerd toegekyk het hoe ‘n NG-predikant een Saterdagaand by
die plaaslike supermark gaan brood koop het. Hier tref hy ‘n hele ry van sy
lidmate aan wat tou staan om Lotto-kaartjies te koop. Terwyl hy deur die menige
wikkel om in die winkel te kom hoor ‘n mens net ‘n “Naand dominee” soos die
lidmate hul leraar bly groet.
As dit nou ‘n ry Doppers was, en dit was ‘n Dopperdominee, meen ek sou die
kopers (ja, hulle koop ook op die slaai) geduik het om agter appels en brode en
so aan dekking te neem.
Maar tien uit tien vir Zelda wat nie skroom om Zuma se veelwywery as ongewens
uit te wys nie. Sy knyp bietjie verder, soos die slag toe Zuma owerspel as
verweer teen ‘n verkragtingsklag aangevoer het.

110
‘n Mens kan ‘n rissiebek wees én reg wees, en kritiek moet dan beoordeel word
vanuit die perspektief en objektiwiteit van die kritiekskrywer.
Suid-Afrika gaan binnekort nog harder en duideliker moet standpunt inneem van
sake wat as “kultuur” geopper word. Die voorneme om rituele slagtings ter ere
van die voorvaders by die sokkerstadions te doen is een. Hier mag ons dalk uit
respek vir mekaar se kultuurgebruike diskresie aan die dag lê, maar gaan krap
maar op die internet om te sien hoeveel petisies word deur mense wat oor
diereregte ernstig voel, opgestel om aan Fifa voor te lê. Let bietjie hoeveel
elektroniese handtekeninge is reeds verkry, en uit watter lande dit alles afkomstig
is.
Heel waarskynlik sal hier te lande ‘n paar Christengroepe op die laaste nippertjie
wakkerskrik en ook ‘n lawaai maak.
Intussen word min of meer in al elf amptelike tale geswyg terwyl die voorstanders
van die slagtings hulle verweer as synde Christelike praktyke wat ook in die
Bybel voorkom. Terwyl dit juis hierdie wanvoorstelling is wat kerke behoort aan te
spreek omdat Christus self die finale offer gebring het. Die Ou Testamentiese
slagtings het ook niks te make gehad met die blymaak van voorvadergeeste nie
– trouens, die Ou Testament is erg krities oor die oproep van die geeste van
afgestorwenes.
Die gevolg is dat politieke partye op die vooraand van ‘n verkiesing hulle hieroor
sal moet uitspreek, en dan gaan hierdie partye weer van rassisme beskuldig
word.
Weens die swye van kerke...
Zelda, daar is baie om oor te skryf, baie sake waaroor die pen in gal gedoop kan
word, maar wat bitterlik nodig is.

Nuuskommentaar: Dekade van vrees?


Enkele maande voor die Britse Premier, die Arbeider, Gordon Brown, ‘n
algemene verkiesing moet afkondig wat hy bykans vir seker teen die
Konserwatiewe Party gaan verloor, spreek hy die moontlikheid uit dat terreur dalk
van die komende dekade een van vrees kan maak.
Die aankeer van ‘n Nigeriër aan boord van ‘n vlug van Amsterdam na Detroit, toe
hy besig was om ‘n ploftoestel te laat ontplof, dui daarop dat dit nie bloot
klimaatskepping met die oog op die verkiesing is nie. Die Nigeriër het bande met
Al Kaïda.
Hierdie insident plaas ook vir die pasverkose Amerikaanse president en
voortydige Nobel-vredespryswenner, Barack Obama, voor ‘n morele krisis.
Obama het die sluiting van die Amerikaanse basis in Guantanombaai in Kuba,
waar die Amerikaanse owerhede weens ‘n tegniese leemte in hul grondwet
terroriste en verdagtes kan aanhou sonder die normale regte waarop
Amerikaanse aangehoudenes geregtig is, as verkiesingsvoorneme gebruik.
Nou plaas die realiteit Obama in ‘n hoek.
Moderne tegnologie dra daartoe by dat internasionale terreur nie maklik vasgevat
kan word nie. Nie alleen het moderne tegnologie die wêreld as’t ware laat krimp
nie, dit vergemaklik kommunikasie tussen terreurselle en hul ideologiese
hinterland. Met die jongste insident is groepe in Yemen en Somalië minstens

111
verbaal betrokke. Geld kan oor die wêreld van rekenings verwissel, en
elektroniese geldwassery is moontlik. Terreurgroepe span gereeld die moderne
tegnologie in om die klimaat van vrees wat hulle skep na die wêreld te
kommunikeer. Die TV word die tuisteater waar miljarde kykers oor die hele
wêreld kan sien hoe hulle enige tyd die volgende “akteurs” van die “opvoering”
kan wees.
Dieselfde tegnologie maak die monitor hiervan moontlik. Doeltreffende
teenoptrede word egter bemoeilik deurdat baie van die lande wat geteiken word,
grondwette het wat aan die terroriste soveel regte gee dat hulle effektief
ideologiese “no go” -areas skep waar hulle in relatiewe veiligheid hul aksies kan
beplan en orkestreer. So word die tuisfront wat verdedig moet word bykans
oneindig lank gerek, en word dit bykans onmoontlik gemaak om die hele front
ondeurdringbaar goed te verdedig.
So lank onskuldige mense die teikens van terreuraanvalle bly, so lank sal die
wêreld in ‘n greep van vrees vasgevang wees, en so lank sal die dryfkrag
teenwoordig wees om terreurbeplanning deur enige maatreël denkbaar te
bekamp – al druis van die metodes regstreeks in teen die waardes wat die Weste
probeer beskerm.
Dit kos slegs ‘n oomblik se oog van die bal afhaal om vir die aftakelingsmagte ‘n
sagte teiken te skep. Suid-Afrika beleef dit telkemale, soos die prys wat betaal
moet word wanneer ondeurdagte besluite deurgevoer word soos die onttrekking
van die weermag van die landsgrense, die opskorting van kommando’s en die
afskaffing van spesialiseenhede. Elke keer was daar teoreties ‘n alternatief op
die tafel, maar tussen die ongetoetste teorie en die harde praktyk hou die pap
aan op die grond val, en onskuldige mense soos boere en hul gesinslede wat in
plaasaanvalle sterf, is die slagoffers.
Obama het sy vredesprys gekry en dié spektakel so waardig as moontlik
hanteer, maar die lakmoestoets bly steeds hoe hy die vrede in die praktyk gaan
wen. Gordon Brown moet waak daarteen om nie twee vlieë met een klap te
probeer slaan deur die dreigement van terreur subtiel in te span om die Britte tot
versigtigheid tot ‘n demokratiese verandering van bewindhebbende party te
beweeg nie.
Hier te lande moet gewaak word dat ‘n keiser wat bruilof op bruilof vier, nie die
oog van die bal van ander sake wat om uitvoering (of soos dit gestel word,
“delivery”) roep te haal nie. Op RSG se program, Kommentaar, is gisteraand in
die 2010-vooruitskouing skeptisisme uitgespreek dat die ANC in die praktyk van
sy kader-ontplooiingsbeleid sal afsien, met die gevolg dat gebrekkige
dienslewering en korrupsie uiters moeilik hokgeslaan sal kan word.
Dit sal nie die eerste keer wees dat ‘n land, met ‘n regeringsleier met ‘n kop vol
muisneste, in die Rubicon vasval nie.

112
Deel 3 Afrikanersake

Selfbeskikking en die Afrikaner


Baie, soms hoogs emosioneel gelaaide, briewe en artikels oor die Afrikaner en
selfbeskikking het die onlangse verlede op veral die internet opslae gemaak.
Uiteindelik kan die situasie opgesom word dat polariserende kragte ‘n sensasie
van magteloosheid losgelaat het en dat baie Afrikaners hulself nou iewers op die
spektrum van die spektrum van selfbeskikkingsdrange bevind.
Maar hou dit water – is daar so ‘n opsie?
Volkeregtelik ja. Grondwetlik ook in beginsel ja, en in die realiteit – wél, met
genoeg wilskrag kan iemand sy vinger in sy eie oor afbreek ook.
Om nie in ‘n herhaling van struikelblokke vasgevang te word nie, word net ‘n
aantal genoem sonder om dit te bespreek: Die mate van selfbeskikkingsreg hang
van die vlak van bewese onderdrukking af, die volk moet duidelik gedefinieer
wees, ras mag nie ‘n norm wees nie, sommiges argumenteer dat daar ‘n
noodsaak vir die status van ‘n regspersoonlikheid moet wees, dit moet
lewensvatbaar wees, ander groepe mag nie in die proses onderdruk word nie...
Wat hierdie aspekte betref, hou beide die Vryheidsfront Plus en die Orania-
beweging die oog netjies op die bal. Baie bagasie, sommiges ongenooid, word
egter in die proses saamgedra wat die proses suiwer vanuit ‘n regsoogpunt, baie
bemoeilik.
Met dié stelling word dadelik ook gemeld dat dit nie net die Volkereg en die
Staatsreg is wat ‘n rol speel nie. Die oorbeklemtoning van die juridiese, en veral
‘n spesifieke vertolking van die staatsreg, is grootliks verantwoordelik vir die
tameletjies wat Suid-Afrika nou beleef.
Eers as ander staatswetenskappe behoorlik verreken is, kan ‘n geheelbeeld
gevorm word van wat moontlik én wenslik is.
Die wetenskap wat grootliks let op die middelpuntvliedende en
middelpuntsoekende kragte wat in ‘n gemeenskap teenwoordig is, en dus
uiteindelik die staatkundige model sal bepaal, is die veld van die politieke
sosioloë. Om dit wat politieke sosioloë te sê het gewoon as politiek inkorrek af te
maak en dan instinktief die teenoorgestelde op te soek, los niks op nie.
In ‘n land wat so heterogeen soos Suid-Afrika is en boonop op verskillende
maniere gestratifiseer is (bv nie net ras nie, maar ook taal, godsdiens, sosio-
ekonomiese ongelykheid ens) is die vind van oplossings baie ingewikkelder as
bloot die gebruik van ‘n plat vlak grafiek van relatiewe deprivasie.
‘n Belangrike hulpfunksie is antropoloë wat kan uitwys hoe sekere kulturele
verwagtinge in politieke uitdrukking sal manifesteer. Ook hier is politieke
korrektheid die grootste gevaar.
Wanneer hierdie scenario ontleed is, word politieke wetenskaplikes en politieke
geograwe bygevoeg. Die politieke sosioloë en die antropoloë onttrek egter nie,
aangesien hul rol basies enduit uiters belangrik bly.
Die politieke wetenskaplikes en die politieke geograwe plaas dan verskillende
opsies wat elders ter wêreld onder soortgelyke omstandighede gebruik word op
die tafel. Beide politieke wetenskaplikes en politieke geograwe het gewoonlik ‘n
handige kennis van die volkereg.

113
Dit spreek vanself dat dit uiters ongewoon sal wees dat die situasies in meer as
een land genoegsaam sal ooreenstem sodat ‘n model klakkeloos oorgeneem kan
word. Gewoonlik sal aanpassings oorweeg word, en sekere situasies sal self iets
verg wat grootliks uniek sal wees. Heeltemal uniek sal dit moeilik afgaan, omdat
so iets in effek eers deel van die volkereg gemaak sal moet word om
aanvaarbaar te wees.
Wanneer hierdie proses effektief voltrek is, word die staatsregwetenskaplikes
ingetrek. Weer eens onttrek die vorige groepe nie omdat hul insette noodsaaklik
bly.
Nou word die grondwet geskryf. Dit behels die verskaffing van juridiese vleis aan
die model wat die kundiges reeds ontwerp word. Wanneer die staatsregmense
van die model wil afwyk, moet die ander kenners oortuig word dat die
alternatiewe deel meer geskik is as dit wat op die tafel was.
Waar pas die politici in, en veral, waar pas die kiesers in?
Dit hang af van waar die opstel van die grondwet begin het. Gewoonlik het die
situasie waar ‘n aantal onafhanklike entiteite oor nouer samespanning
onderhandel, ‘n voordeel bo die scenario waar die eenheid ‘n vertrekpunt-
gegewe is, en die opbreek ‘n opsie.
Wanneer nouer eenheid nagestreef word soos met die oorspronklike kolonies
wat die VSA gevorm het, of die kantons wat saam Switserland gevorm het, en
selfs die Europese Unie wat uit onafhanklike lande saamgevoeg is, offer die
deelnemers van hul soewereiniteit vrywillig op aan ‘n groter eenheid. Soms is dit
ook minder vrywillig, soos die kwaai stryd van die Hanse Verbond in Switserland.
Wanneer ‘n eenheid – al is dit ‘n kunsmatige eenheid – outonomie in die
teenoorgestelde rigting laat vloei gaan dit dikwels met groot teenkanting gepaard.
Die ou, sentrale staat, sal waarskynlik hard probeer keer dat die deel wie se
status verander, se status so min as moontlik verander. In ‘n stadium het
Ethiopië gelyktydig sewe afskeidingsoorloë beleef met groepe soos die Wollo en
die Tigre wat in opstand was, maar uiteindelik net die Eritreërs wat volle
onafhanklikheid verwerf het.
In Soedan, minstens in teorie, het die sentrale staat daarin geslaag om die
suidelike deel van die land, se outonomie te ondervang sonder dat dit volledig
afgeskei het.
Ongelukkig maak lande erg misbruik van terminologie. Toe Spanje aan Wes-
Sahara onttrek het, het dit die administrasie, nie die soewereiniteit nie, aan
Marokko en Mauritanië oorgedra. Marokko het dié nuanse “misgekyk” en die
gebied ingelyf, en sy bondgenoot, die VSA, het dit gesteun terwyl beide dit
gewoon stel dat Spanje dit gemagtig het. Marokko is sedertdien uit die Afrika-
Unie geskors.
Vir Afrikaner-sefbeskikkers is kennis eenvoudig mag.
Daar is byvoorbeeld ‘n groot verskil om te sê: “Die Afrikaners dring op sy reg op
selfbeskikking aan,” en “Die Afrikaners dring aan daarop dat hy ter aanvang
dieselfde staatkundige regte as die Indiese deelstate het,” of “Dit wat ons
voorstaan is presies dit waarvoor die Europese Unie se grondwet voorsiening
maak.”

114
Die eerste aandrang, naamlik die ongenuanseerde opeis van selfbeskikking,
gaan deur die teenstanders daarvan sonder moeite as ‘n herlewing van apartheid
beskryf word, en met apartheid wat tot misdaad teen die mensdom verklaar is, is
dit nie ‘n beginpunt nie.
Afrikaners moet daarmee vrede maak dat volkeregtelike reëls gaan geld
wanneer oor selfbeskikking beding word. Die enigste grondwetlike voorsiening vir
selfbeskikking is in artikel 235 van die grondwet. Hierdie artikel vereis “nasionale
wetgewing” om aan ‘n taal- en kultuurgroep geografiese of ‘n ander vorm van
selfbeskikking te besorg. Die volkeregtelike invalshoek word egter ook moontlik
gemaak soos in artikel 231 (5) waardeur Suid-Afrika gebonde is aan
internasionale ooreenkomste wat reeds met die inwerkingtreding van die
grondwet geldend was. Artikel 232 bepaal ook dat die internasionale reg in Suid-
Afrika deel van die reg is, tensy dit onbestaanbaar in terme van die grondwet of
‘n wet is. In die volgende artikel bepaal die grondwet dat die uitleg van wette in
Suid-Afrika so uitgelê moet word dat dit versoenbaar met die volkereg is.
Teen hierdie agtergrond is dit duidelik hoekom ook artikel 235 – bo en behalwe
sy eie beperkings – ook teen die prisma van die Volkereg vertolk moet word.
Wat van die Handves van Menseregte?
Gewoonlik val die begrip “Menseregte” uiteen in individuele regte en groepregte,
of wat laasgenoemde betref, meer dikwels as minderheidsregte. In die praktyk
word menseregte meestal verstaan as dieselfde as individuele regte, soos ook
blyk uit die naam van die Afrikakommissie vir Mense- en Groepregte (waarvan
Suid-Afrika ‘n lidland is).
Die opstellers van die grondwet maak geen geheim daarvan nie dat hulle geglo
het die beste waarborge word deur individuele regte uitgeoefen, en dat individue
dan hierdie regte kollektief kan aanwend. Hierdie doelwit, soos ook dat dit ‘n
verenigde land moet wees, word ook duidelik in die aanhef van die grondwet
gestel.
Groepregte wat tot outonomie sal lei, is dus iets wat nie maklik in die praktyk sal
realiseer nie.
Die probleem lê nie net by die regering nie, maar ook by “onwillige volksgenote”
en volksgenote wat met eie definisies van die term “volk” die volkeregtelike opsie
buite bereik plaas.
(Dit is so dat die regering nou eerste begin het om ras oral as norm aan te wend.
Die regsimplikasie is dat hierdie rasaanwending die regering se posisie teen
selfbeskikking verswak, en volke wat hierdeur onderdruk word, in beginsel
versterk – om self ras as in- of uitsluitingsnorm te gebruik, neutraliseer net die
voorsprong, en maak steeds nie ras ‘n juridiese norm vir selfbeskikking nie).
‘n Volgende opmerking is dat artikel 235 vir ‘n ander selfbeskikkingsopsie as die
geografiese voorsiening maak. Die beginsel van korporatiewe of konsosiatiewe
selfbeskikking is dat so ‘n owerheid eerder oor mense as oor grondgebied
regeer. Hierdie vorm is byvoorbeeld geskik waar ‘n inheemse bevolking nie meer
beduidende grondgebied oor het om geografies te regeer nie (byvoorbeeld die
Maori’s), maar ‘n regeerbehoefte steeds bestaan ten opsigte van sake wat met
kultuur- en ander groepbelange verband hou. Die Maori-kongres (parlement) het
beduidende magte.

115
In die VSA, waar die inheemse Indiaanse bevolking baie heterogeen is, val die
swaartepunt op regeer van gebied op die verskillende stamme, en hierdie
reservate is wat baie wetgewing betref, uitgesluit van die deelstate waarin hulle
val, en val regstreeks onder die sentrale regering in Washington DC.
Op die minste bied korporatiewe ligaam ‘n bewysbare kollektief wat dan in ‘n
bedingingsposisie met die regering kan staan. Dit bied egter ook ‘n waardevolle
vertrekpunt in grondgebied wat bekom is, op ‘n manier de facto te begin regeer.

Afgesien van verskillende vlakke van outonomie en selfbeskikking, is daar nog


die netelige kwessie van oorspronklike of gedelegeerde gesag.
Oorspronklike gesag is tipies die gesag (magte) waaroor ‘n entiteit beskik het
voor dit deel van ‘n groter eenheid geword het. As deel van ‘n groter eenheid
behou dit soveel van sy oorspronklike gesag as wat dit wil behou, en wentel dit
wat oorbly na die nuwe, sentrale entiteit op. Die omgekeerde gebeur as ‘n entiteit
na ‘n losser vorm omskakel, en dan word sentrale gesag na die deelnemende
entiteite gedelegeer.
Die huidige grondwet sou dus ook behels dat ‘n Afrikanerentiteit in alle
waarskynlikheid van gedelegeerde gesag afhanklik sal wees. Die belangrikste
verlammende komponent sal tipies wees dat die sentrale owerheid die effektiewe
alleenreg het om inkomstes uit belastings te in, en om daardie inkomstes na
goeddunke af te wentel, ook na ‘n Afrikanerentiteit. Die ideaal sou wees dat die
Afrikanerentiteit die oorspronklike gesag sou hê om sy burgers te belas, en dan
by wyse van ooreenkomste gelde na die sentrale staat oor te dra vir
instandhouding van paaie en ander infrastruktuur.
Wanneer tot die vlak van volkome onafhanklikheid gevorder word, verval die
onderskeid tussen oorspronklike en gedelegeerde gesag uiteraard.
Vir enige opsie sal dit nie maklik wees nie.
Die eerste probleem is dat nie alle Afrikaners oortuig is die toekoms behels ‘n
vorm van outonomie of meer nie, en ten tweede omdat die grondwet so geskryf
is dat dit ‘n eenheidstaat bevorder.

Afrikaans: Hoe reageer tale onder druk?


Die paar harde klappe wat Afrikaans toegedien is in ‘n beëdigde verklaring deur
die DG vir Kuns en Kultuur, nogal met die goedkeuring van die president, het nie
net regsimplikasies nie (Lees Volksblad se berig onderaan).
Nota: Hierdie is ‘n indrukartikel en op waarnemings eerder as konkrete feite
geskoei is.
Die eerste vraag wat gevra kan word is of Engels so ‘n uitsonderlike status
verdien soos wat die regering graag daaraan wil toeken?
Dit kan ten beste met “miskien” beantwoord word. Engels, met al sy variante, is
waarskynlik die taal ter wêreld wat die meeste gepraat word. Dit is nie so ‘n
eenvoudige antwoord nie, omdat baie van die mense wat as “Engelssprekers”
getel word, in werklikheid ander huistale het, en baie van diegene wat aandui dat
hulle Engels magtig is, se vaardigheid hierin so gebrekkig of ontbrekend is dat dit
nie betroubare resultate oplewer nie. Die moedertaalsprekers wat Mandaryns en

116
Kantonees (twee Chinese tale wat onderling verstaanbaar is) is moontlik meer as
die werklike aantal Engelssprekendes.
Wat die aantal lande betref waarin ‘n mens jou met Engels kan behelp, sal in alle
waarskynlik minder wees as die lande waar Spaans bruikbaar is. Weer eens is
dit ‘n grys gebied omdat byvoorbeeld aanvaar word dat Engels wyd in Indië en
Sri Lanka gepraat en verstaan word, wat hoogstens kol-kol die geval is.
Boonop word projeksies gedoen wat daarop dui dat Spaans weldra meer
moedertaalsperkers in die VSA sal oplewer as Engelspsprekers (die jaar 2050
word byvoorbeeld gereeld genoem).
Hoewel Arabies in baie lande gebruik en verstaan word, is hierdie lande in die
reël yl bevolk, met meer as die helfte van die Arabiessprekendes wat
byvoorbeeld in Egipte woon.
Teenoor ‘n minderheidstaal in Indië en Sri Lanka, Tamil, met sowat 65 miljoen
moedertaalsprekers, is Afrikaans met waarskynlik nie meer as agt miljoen
moedertaalsprekers nie, ‘n klein taal.
Maar gaan krap aan die waardigheid van ‘n taal, en daar is bykans altyd ‘n groot
teenreaksie.
Nie baie lank gelede nie was daar ‘n taamlike beweging in Nederland om
minstens by sommige universiteite Engels as ‘n taalmedium in te voer. Toe hou
‘n groep immigrante optogte en dring aan om Engels as kommunikasietaal,
eerder as Nederlands te mag gebruik.
Fout.
Min of meer dieselfde tyd is daar ‘n debat oor welke taal die Europese Parlement
se amptelike taal moet wees, en toe dit blyk dat Engeland soort van as
vanselfsprekend aanvaar dit moet Engels wees, is daar ‘n skerp teenreaksie.
Oornag verdwyn Engels van ‘n rits politieke partye in Europa se webtuistes. Van
hierdie partye, soos die Duitse CDU en die Nederlandse CDA het omtrent
volledige Engelse weergawes naas die lande se eie tale gehad, maar selfs
noudat Engels weer beskeie in daardie webtuistes kom nesskop, is slegs ‘n klein
deel van die inhoud in Engels te lese. Ook in Swede waar die inwoners taamlik
gesteld is om Engels onder die knie te hê, het Engels uit politieke partye en selfs
toerisme-webbladsye verdamp.
Van die Duitse ministers is ook stram om Engels te praat, selfs al is hulle vlot
Engels magtig. Weer eens het ‘n betreklik nietige saak die ding aangevuur – die
BBC wat ‘n joernalis wat slegs Engels magtig is stuur om die nuuskonferensie na
afloop van die Duitse verkiesing te gaan dek, en toe aandring om vrae in Engels
te vra en beantwoord te word. Dit, terwyl die BBC ‘n korrespondent in Berlyn het
wat Duits vlot magtig is.
Daar is egter ook ‘n verwikkeling op ‘n ander vlak. Enkele jare gelede was dit nog
taamlik maklik om Friesies via ‘n kennis van Nederlands te lees. Of so het ek tot
my verbasing gedink, synde ek op skool geleer het Friesies is nader aan Engels
as aan Nederlands verwant. Vir seker minder as ‘n jaar het ek nie iets in Friesies
gelees nie, en toe ek weer daar gaan oplees as deel van spesifieke navorsing,
kry ek ‘n groot verrassing. Ek kan dit beswaarlik volg, en eintlik ook net bietjie
volg omdat ek vir stamboeknavorsing myself redelik bedrewe moes maak om
Sweeds te lees.

117
Miskien nie so verrassend dat Friesies en Sweeds na mekaar trek nie, synde
beide van Skandinawiese herkoms is, met die Friese wat verwant is aan die
Angele en Saksers wat in Engeland gaan vestig het.
Toe onthou ek dat daar beslis iets gebeur het. Omtrent elke Nederlandse
korrespondent wat ek het, kondig skielik aan dat hulle eintlik Friesies is. Selfs al
kan hulle nie ‘n woord Friesies verstaan nie.
Maar duidelik het daar ‘n Friesiese bewuswording plaasgevind, wat tot die
herontdekking van die Friese taal en gebruik daarvan gelei het. Dis ook nie so
eenvoudig nie, want Friesies het verskeie weergawes wat dalk meer soos
afsonderlike tale as net dialekte van mekaar staan.
So sterk was hierdie oplewing in ‘n stadium dat staatkundiges in Nederland en
België selfs die opsie genoem het dat, sou België uitmekaar spat, Vlaandere
aansluiting by aangrensende Nederlandse provinsies sou vind, en dat Friesland,
of liewer, die Friesiese gebiede, nie deel hiervan sou uitmaak nie. ‘n Variasie was
om voor te stel dat die Friesiese gebiede dan by Denemarke, ook ‘n
Skandinawiese land, sou inskakel.
Toe die taal / dialek, Groningins, onlangs sy eie amptelike Bybelvertaling in
gebruik neem, was Friesiese eregaste duidelik meer welkom as die
Nederlandsprekers, hoewel ook selfs ten opsigte van hierdie “broeders in
taalverdrukking” ‘n ligte afstand gehandhaaf is.
Onlangs het ‘n aantal Katalaanse stede en dorpe in ‘n nie-bindende referendum
vir volkome Katalaanse onafhanklikheid van Spanje gestem. Katalaans is na
berig word nader aan Italiaans as aan Spaans.
Die werklike interessante geval is egter Baskies.
Omdat Baskies ‘n baie ou taal is (met onseker taalverwantskap) is dit erg
dialekties wat stremmend op die aanwending van die taal as amptelike taal of
akademiese taal inwerk. Baie Baske, hoewel Baskies hul moedertaal is, het ook
‘n Spaanse identiteit vir “hoër” funksies en is van die grootste koerante in die
selfregerende Baskiese provinsies Spaans.
Trouens, ‘n gestandariseerde vorm van Baskies vir amptelike en hoër gebruik,
Batue, is eers in taamlik onlangs ingevoer. ‘n Eens groot taal, Occidan, word nou
net deur ‘n klein aantal mense in Frankryk gepraat waar dit eens sowat 10
miljoen sprekers gehad het. In Frankryk word net Frans amptelik erken. Occidan
word ironies in dele van Katalonië as amptelike taal erken, en het ook meer
amptelike status in Monaco en Italië waar dit ook in dele gepraat word. Die mate
waarin hierdie taal oornag amper verdwyn het, word gereeld as argument
gebruik hoekom ‘n taal behoorlike amptelike erkenning behoort te geniet.
Dit lyk egter of daar in Europa – ook Frankryk – ‘n horde oertale en Romaanse
variante is wat ten spyte van bitter min sprekers, ook verseg om heeltemal die
handdoek in te gooi. Selfs binne die Baskiese gebied is daar ‘n magdom klein
taaltjies, en word juis as een van die redes aangevoer hoekom Baskies so
gesukkel het om homself bestendig te kry.
Wat kan van Afrikaans verwag word as dit nie amptelike erkenning kry nie, of erg
afgeskaalde erkenning?

118
Ten eerste kan verwag word dat die sprekers wat meen Afrikaans is cool en ‘n
taal wat lekker as gig-taal by shows gebruik kan word, deurlopend teenspoed by
taalpuriste sal kry.
Die generasie wat betreklik onlangs nog op skool deurgeloop het omdat hulle na
hul gesin as familie verwys het, of dit op die skoolterrein gewaag het om van die
skoolgronde te praat, of na hul pa se besigheid in plaas van onderneming te
praat, moet maar in afsku toesien hoe Engels sy “kolonisasie” van Afrikaans
voltrek.
Eers wanneer die sportlui besef dit is uncool om coaches in plaas van afrigters te
hê, sal Afrikaans kan voel hy weer hierdie aanslag van binne af.
Dan is daar die Afrikaanssprekendes se skryfvermoë. Sien ‘n mens dit wat buite-
om die gedrukte media in skrif verskyn, wonder ‘n mens gewoon of daar nog ‘n
onnie los rondloop wat weet wat in Afrikaans vas, en wat los geskryf word. Die
taalgebruikers oor die algemeen het nie ‘n benul nie, selfs nie eens van die
voorste taalbulle nie.
Word daar nie op die staatkundige front hard geveg vir die regte van ‘n taa wat
van binne in elk geval gerysmier word nie?

Nuuskommentaar: Die status van Afrikaans


Met die aanvaarding van die huidige grondwetlike bedeling met elf amptelike tale
is die vermoede uitgespreek dat dit ‘n foefie was om uiteindelik net een amptelike
taal te hê.
Hierdie vermoede is deels bevestig in die boek, Fundamental Rights in the New
Constitution. Heelwat van die outeurs soos Maduna, Cachalia, Davies en Marcus
staan immers in die ANC-dampkring. In hierdie boek word die moontlikheid
uitgespreek dat daar uiteindelik net een amptelike taal sal wees gegewe die
onpraktiese gevolge van elf amptelike tale.
Grondwetlike waghonde oor taalregte, soos die Pansat en later die Kommissie
vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en
Kultuurgemeenskappe het tandelose monsters gebly, of is deur die regering vir
ander doeleindes gekaap.
Die kersie op die koek was die beëdigde verklaring, namens die president en
twee ministers, deur die DG van Kuns en Kultuur waar dit baie duidelik blyk dat
die regering geen voorneme het om Afrikaans of enige ander inheemse taal
dieselfde status as Engels te laat geniet nie. ‘n Tweede aspek wat uit die
verklaring blyk, is dat beledigend min besef word van wat Afrikaans reeds
vermag het.
Dié verklaring is ingedien in reaksie op ‘n hofsaak wat teen die regering gemaak
word omdat die regering skynbaar nie sy grondwetlike pligte nakom om ‘n
taalwet, soos die grondwet vereis, op te stel nie. In die gevolglike vaaghede moet
Afrikaans en die ander inheemse tale ‘n deurlopende hofstryd voer om nie
gewoon ondergeploeg te word nie.
Een van die verwere wat die staat nou aanvoer, is dat gelyke behandeling
onbekostigbaar is. Grondwetlik gesproke is dit wel so dat sommige grondwetlike
regte eers van toepassing word wanneer die staat dit kan bekostig, en tel
gewoonlik onder die sogenaamde derde generasie regte. Die staat kan

119
byvoorbeeld nie al die kinderregte, soos vir opvoeding, wat in die grondwet
beskryf word bekostig nie. ‘n Toetssaak was die afsterwe van ‘n persoon wat aan
‘n dialisemasjien gekoppel was, en nie self die kostes kon dra nie. Die staat het
aangevoer dat die staat dit ook nie kan bekostig nie, en na die masjien ontkoppel
is, is die persoon oorlede.
Tradisioneel tel taalregte egter eerder onder eerste generasieregte as derde
generasie, veral omdat dit ook in die grondwet as amptelike tale opgeneem is.
Dit was die gevolg van ‘n onderhandelde ooreenkoms, en die regering se reaksie
nou dui in werklikheid op onderhandelings in kwade trou – ironies juis in die tyd
wat die Rubicon-toespraak se 20ste herdenking gevier is, en nog ‘n afloop van
die grondwetlike onderhandelings, die pleknaamkwessie, op die howe se
voordeure gaan draai het. Toevallig is dieselfde minister, Lulu Xinwana, by die
taalkwessie en plekname betrokke.
Afgesien van al die kwessies wat normaalweg met taal verband hou, soos die
reg op moedertaalonderrig, en neerslag in gelykheid voor die regbank, is daar in
die geval van Suid-Afrika ‘n baie dieperliggender aspek. Met die onlangse debat
oor die volkstaat is die kwessie van groepregte opnuut onder die soeklig gekom,
en is die grondwet se gebreke om uitdrukkingsvermoë aan hierdie regte te gee
duidelik onderstreep.
Groepregte, en meer in die besonder minderheidsregte, is egter ‘n sterk
volkeregtelike reg en word in die meeste moderne grondwette behoorlik
ondervang. In die Suid-Afrikaanse grondwet is daar ook enkele klein agterdeure
hiervoor oop, via die volkereg, wat beteken dat volkeregtelike vereistes nagekom
moet word om daardie regte te kan uitoefen.
Die grondslag vir groep- of minderheidsregte is kultuur, en taal is een van die
belangrikste eksponente hiervan. Die volkereg maak nie vir ras as norm
voorsiening nie.
Die DG se verklaring kan vertolk word as ‘n vorm van statutêre
minderheidsonderdrukking, en dit is weer gronde vir die toenemende reg op
selfbeskikking. Dit is egter onwaarskynlik dat dit so deur die regering beskou
word. Daar is die oogmerk waarskynlik om gewoon die belangrikheid van
taalregte gering te skat.
Dit sal interessant wees om die liberale respons van diegene wat sterk oor
Afrikaans voel op hierdie verwikkelinge te sien. Aan die een kant sal hulle binne
die bedoelinge van die grondwet – wat hulle as ‘n goeie grondwet beskou – die
belange van Afrikaans wil bestendig. Hulle weet nou egter uit die DG se
verklaring dat dit waarskynlik in ‘n juridiese stryd vasgevang sal bly, wat juis weer
die volkeregtelike bewyse voorsien dat die taalgemeenskap nie sy volle regte
kan uitleef nie.
En dit is weer bewyse, nogal deur die howe getoets, van die reg op die een of
ander vlak van outonomie.

Nuuskommentaar: Rubicon en land mét mense


Ongelooflike geskiedkundige tonnelvisie, noem Volksblad vanoggend ‘n siening
dat mnr. F.W. de Klerk 20 jaar gelede die land se lot ondergeskik moes stel aan
die regte van minderhede.

120
Die grondslagfase van Politieke Wetenskap en ander staatswetenskappe leer
egter dat geen grondgebied ‘n land kan wees sonder mense nie. Wanneer in
landsbelang opgetree word, kan dit dus nie geskei word van die belang van die
inwoners nie. Minderhede geniet ook volkeregtelike regte om hul belange te
verskans.
Ook oor die opsies wat tot ‘n land se beskikking is om die realiteite en aspirasies
te versoen, is ‘n magdom beproefde modelle beskikbaar, terwyl niks die betrokke
land verhinder om uit ervaring van ander en eiesoortige omstandighede ‘n nuwe
model saam te stel nie.
Om dan uit pas met al hierdie opsies op te tree en te verwag dat alles sal regkom
dui op “ongelooflike geskiedkundige tonnelvisie.”
Die pot kan die ketel dus met gemak verwyt.
Trouens, uit die harde nuusberigte wat met die Rubiconvieringe saamgeval het,
is dit duidelik dat die skeptici oor hoe sake aangepreek is, ‘n besliste voordeel
het omdat hulle die huidige realiteit kan kritiseer sonder dat die feesgangers met
harde feite kan bewys dat ‘n meer politiek-wetenskaplike oplossingsbenadering
ook sou faal.
Die politieke wetenskaplikes kan wel put uit die voordele wat meer wetenskaplike
opsies elders in die wêreld ingehou het waar ook staatkundige opsies gevolg is
wat dan staatsregtelik en in pas met die volkereg neerslag vind.
Daar word gereeld gewag gemaak daarvan dat Suid-Afrika se grondwet op die
Indiese geskoei is. In werklikheid is dit hoogstens ten opsigte van die hoofstuk
oor menseregte waar.
Die eerste verskil kom reeds in by die spesiale verskanste setels wat Indië se
oorspronklike inheemse bevolking, die sowat 30 miljoen Adivasi, in die sentrale
parlement het. Verder maak die grondwet voorsiening dat die deelnemende state
se grense volgens die woonverspreiding van groepe getrek word, en word nog
etniese deelstate gevorm wanneer die behoefte ontstaan.
Net oorkant ‘n nou seestraat, in Sri Lanka, het ‘n etniese burgeroorlog 26 jaar
lank gewoed, voor die Singalees-oorheersde regering deur militêre mag die
Tamil-opstand onderdruk het. Wat Sri Lanka nou beleef, is geen model vir vrede
nie. Die pas-afgelope verkiesing is deur geweld gekenmerk, en die president, as
kandidaat met ‘n hardvogtige houding teenoor die Tamilaspirasies, is
oorweldigend herkies. Dit verhoog die polarisasie. In die buiteland het die Tamils
in diaspora ‘n sambreelliggaam gevorm om te besin oor hoe om die stryd verder
te voer. Voor die einde van die burgeroorlog het hulp ter waarde van sowat $300
miljoen per jaar die Tamil-opstandelinge bereik.
Die land hou, volgens die opposisie, nog derduisende Tamils in
interneringskampe aan, en beweer dat die president self agter die bevel tot die
pleeg van oorlogsmisdade staan. Sri Lanka beklee die 162ste posisie uit ‘n
moontlike 175 op die persvryheidsindeks, en volgens Verslaggewers sonder
Grense het onverdraagsaamheid jeens die media na die verkiesing nog verder
toegeneem.
Maak die politieke wetenskaplikes hulself skuldig aan dieselfde soort
oppervlakkigheid as die media se kundigheidsvlak op hierdie terrein, is dit
eenvoudig om te sê Suid-Afrika se grondwet het meer ooreenkomste met dié van

121
Sri Lanka as met dié van Indië. Op die staatkundige terrein is niks egter so
eenvoudig nie, en baie van die vertolkings wat nou gelees en gehoor word het
meer te make met ideologiese oogklappe as politiek-wetenskaplike suiwerheid.
Net omdat ter aanvang die fout gemaak is om teen alle staatkundige en
staatsregtelike logika in die liberale opsie te volg, beteken nie dat die saak nie
later meer wetenskaplik suiwer beoordeel kan word nie.
Begrawe ego’s en tree vir ‘n slag in belang van die land én sy mense, ál sy
mense, op.

Nuuskommentaar: Rubicon en Tshwane


Indien dit die oogmerk van die ANC was om oud-pres. FW de Klerk se
geloofwaardigheid oor die sukses daarvan om 20 jaar gelede die Rubicon oor te
steek, in die tande te skop, is daar met die aangekondigde naamsverandering
van Pretoria na Tshwane uitstekend mee geslaag.
Die wyse waarop dit uiteindelik hanteer is – ‘n lysie in die Staatskoerant – lyk na
‘n onbelangrike regstelling van die spelling van ‘n riviertjie iewers se naam.
In werklikheid is die administratiewe hoofstad van die land se naam op hierdie
wyse verander.
Dit is ‘n saak waarby elke landsburger ‘n belang het.
Dit is ‘n emosionele saak, en die prosesse wat die ANC tot dusver gevolg het
kom uit die handboek van hoe om dinge verkeerd te doen.
Dit het al verskeie kere in die hof gaan draai met baie eier in die ANC se gesig,
en die aangeleentheid is trouens op die oomblik nog sub judice.
Nie net is dit ‘n onwelriekende vis aan die feestafel van diegene wat die Rubicon-
gebeure vandag herdenk nie, dit is die vonk in die kruitvat van ‘n land wat reeds
erg gepolariseerd is.
Hierdie saak gaan ook nou ‘n toets word vir mnr. De Klerk se versekerings van
wigte en teenwigte, waarskynlik die mees omstrede uitlopers van sy Rubicon-
stap.

Nuuskommentaar: Oor die Rubicon binne-in Tamatiestraat


Nie tamatiestraat nie, sou baie argumenteer, na aanleiding van dit wat deesdae
werklik in die strate afloop.
Suid-Afrika het nie ‘n besonder goeie reputasie as dit by referendums kom nie.
Die referendumvraag oor republiekwording was of die status quo gehandhaaf
moes word, of ‘n republiek binne die Statebond uitgeroep moes word. ‘n
Republiek is buite die Statebond uitgeroep.
Met die 1983-grondwet was dit weer so. By herhaling het
regeringswoordvoerders ergerlik na opposisiesprekers gekap wat die kiesers
gewaarsku het dat die regering die uitslag as ‘n mandaat vir hervorming sou
gebruik. By herhaling, en strykdeur, het regeringswoordvoerders die publiek
egter verseker al wat op die tafel was, was ‘n ja of nee vir die
driekamerparlement.
Die stemme was skaars getel, of die refrein klink op oor die mandaat wat vir
hervorming verkry is.

122
Met die referendum rondom die Kemptonpark-gebeure was dit weer so. Die
referendumvraag was gewoon of met die nie-parlementêre groepe oor ‘n nuwe
bedeling onderhandel kon word (met versekerings van wigte en teenwigte wat
sou werk).
Die resultaat was veel anders.
Kwalik ‘n gesonde grondslag om die publiek eendragtig te betrek, en saam te
neem, veral noudat polarisasie blykbaar hoër vlakke bereik het as tydens die
vorige bedeling.
Wat egter vandag aan die bod kom, is ‘n mediaberig waarin mnr. FW de Klerk te
kenne gee dat die huidige afloop die noodwendige afloop en enigste opsie was,
anders as om aan die ou bedeling vas te klou, met die gevolge wat gereeld in
groot grusaamheid soos ‘n paaiboelie aan kiesers voorgehou word.
Dit, sal enige politieke wetenskaplike en staatsregkundige uitwys, is doodgewoon
nie waar nie. Moderne modelle oorsee en die volkereg bied talle opsies anders
as die twee pole wat Suid-Afrika as keuse gebied is.
Onder hierdie modelle tel talle wat juis ontwerp is om heterogeniteit te
ondervang, en in die praktyk veel, veel beter werk as dit wat nou as enigste
alternatief aan Suid-Afrikaners voorgehou word.
Dit is jammer dat die onderhandelaars om redes wat net aan hulle bekend is, nie
ruiterlik erken dat hulle verbrou het nie. Trouens, De Klerk het al dikwels baie na-
aan daaraan gekom om te erken daar is verbrou, soos sy uitlating enkele jare
gelede dat hy self ‘n Christen-demokratiese bedeling volgens Wes-Europese
model voorstaan. Sou hy weet waarvan hy gepraat het, en mens wil graag,
beteken dit hy sou ‘n model voorstaan waar minderheidsregte grondwetlik
verskans word, soos die beleid van die Duitse regerende Christen-Demokratiese
Unie bepaal.
Dit verg geen Einstein om te weet dat die geïmplementeerde alternatief wat op
volledige liberale beginsels gebou is, nie werk nie. Trouens, de Klerk is gereeld
sigbaar op die punte waar hy vure probeer doodslaan soos die rysmier van
Afrikaans in skole en universiteite. Die Rubicon om te erken hy het gefouteer
word egter nie oorgesteek nie, met die gevolg dat die Rubicon sy politieke
Trasimeense Meer kan word.
De Klerk se besluite sal in die toekoms vraagtekens so groot soos piramides bly
– soos om die Presidentsraad se ondersoek na tussengroepverhoudinge op te
skort – juis strategies so kort voor hy ‘n Rubicon oorgesteek het waar hierdie
kundigheid onontbeerlik sou wees.
By die Trasimeense Meer, nie ver van die Rubicon nie, het Honibal in sy opmars
na Rome ‘n groot Romeinse Leër na hul waterdood gestuur. Suid-Afrika se
Trasimeense Meer prut stinkend van iets anders as vars bergstroomwater.
Selfs vandag nog kan gesê word daar lê vir die land se mense ‘n blink toekoms
voor mits die leiers besef dat daar nou, by gebrek aan iets beters, maksimaal van
die grondwetlike ontsnaproetes gebruik gemaak moet word om te beredder wat
te redde is.
Die horlosie kan nie teruggedraai word nie, maar op die pad vorentoe kan weer
na die onderhandelingstafel teruggekeer word en ‘n behoorlike, volkeregtelik-
geldende skikking beding word – mits al die betrokkenes erken dat die wyse

123
waarop die Rubicon oorgesteek is op ‘n gewisse ondergang in die Trasimeense
Meer uitloop.

Volksgenote in diaspora
‘n Oppervlakkige analise van beduidende bevolkings in diaspora is dat hulle in
die lande waarheen hulle of hul voorouers uitgewyk het, geneig is om radikaler te
wees as hul volksgenote op die tuisfront.
Hierdie siening kan gevorm word aan die hand van die wapens en morele
ondersteuning wat die Ierse Republikeinse Leër uit veral die VSA gekry het, die
jongste verwikkelinge rondom Sri Lanka en die Tamils, en Armeniërs in diaspora
ten opsigte van onder meer die bedrywighede in die 70’ger en 80’ger jare van
ASALA.
Wat dan, met bykans ‘n miljoen Afrikaners in diaspora?
Maar alvorens ‘n mens hierdie verskynsel ontleed, is dit nodig om te kyk of dit
altyd so geldig is.
Word na Israel en die Jode in diaspora gekyk, is die boodskap baie gemeng.
Jode dra wel baie tot Israel se ontwikkeling by, en via hul stemkrag in onder
meer die VSA, ook op regerings om minstens verdraagsamer teenoor die
Israelse saak te staan.
‘n Gemengde boodskap kom uit die geledere van Palestyne in diaspora. Terwyl
niemand kan betwis dat sogenaamde vlugtelingkampe in onder andere Libanon
niks meer as Hamas-teelaardes is nie, is die Palestynse lobby in die VSA meer
afgerond en beredeneerd.
Verskeie faktore bepaal die georganiseerde aard van volksgenote in diaspora, en
nog te meer hoe radikaal hulle is.
Maar selfs dan verskil hulle. So het Suid-Afrikaners hulle in ‘n stadium om elke
hoek en draai in winkelassitente en ander mense vasgeloop wat nie Afrikaans
magtig is nie, en flink aanvoer: “I come from Rhodesia.” Hierdie Rhodesiërs in
diaspora het hulle gou teen die hele politieke spektrum hier bevind, soos Clive
Derby-Lewis in die KP en daarna die gevangenis, Cherryllyn Dudley in die ACDP
as parlementslid, en Mary Metcalfe binne die ANC. Metcalfe se bande met
Rhodesié staan ook meer in die dampkring van ‘n vlaag Zimbabwiese
vlugtelinge.
Dit is moeilik om die dinamika te verstaan wat onderliggend was aan die
Amerikaanse Iere se fiksasie met die IRL se stryd. In Ierland self was die IRL
verbied, maar die Amerikaanse Iere het wapens, geld en ander hulp na dié
organisasie en die meer radikale INLA aangestuur asof dit uit die mode raak.
Die Iere in die VSA is ook ongeveer vier keer meer as die Iere in Ierland self. (‘n
Tikkie ironie in die lig van ou Keltiese verwysings na die mistieke land in die
Weste as “groot Ierland.)”
In die VSA kon hierdie groep, as Rooms Katoliek in ‘n oorwegend Protestantse
omgewing, hul identiteit betreklik goed behou. In Ierland, veral Noord-Ierland, is
die “inheemse” Iere minderwaardig geag deur Protestantse immigrante uit veral
Skotland. Dit is hierdie Skotse nasate wat op bande met Brittanje bly aandring
het.

124
Die Armeniërs in ballingskap is hoofsaaklik afstammelinge van die kernbevolking
wie se hartland in die huidige Turkye was. So volledig is hulle vroeg in die 20ste
eeu deur die Turke uitgemoor dat min ensiklopedieë eens Armeens as ‘n taal
noem wat in Turkye gepraat word. Die Armeniërs was die oudste Christenvolk in
die wêreld, en het eeue lank as Christenbolwerk teen Mosleminvalle gedien.
Hulle het in die proses dikwels erg die spit afgebyt.
Danksy nou bande tussen ‘n ‘n Armeense ekskalwe aan die Turks-Meditireense
kus en die Franse koningshuis, het baie van hierdie Armeniërs na onderdrukking
begin het hulle in Frankryk gevestig, maar ook elders in Europa en ‘n beduidende
groep in die VSA. In hierdie lande moes hulle toesien hoe dié lande via Navo in
‘n bondgenootskap met Turkye tree.
‘n Groep wat hulle in Libanon gevestig het, het ten spyte daarvan dat hulle
aansluiting by die Libanese Christene gekry het, in noue aanraking met die
radikale Palestynse groepe gekom en ASALA (Armenian Secret Army for the
Liberation of Armenia) gevorm.
Om die Tamil Tiere se stryd in Sri Lanka in isolasie te sien, is ‘n fout. In Indië
maak die Tamils met sowat 65 miljoen sprekers ‘n groot deel van die bevolking
uit, en is ‘n belangrike komponent van die land se Drawadiese bevolking wat
grootliks deur Indo-Germaanse taalgroepe oorheers word. Trouens, Indië se
amptelike taal, Hindi, is ‘n Indo-Germaanse taal en bykans dieselfde as Oerdoe,
die amptelike taal van Pakistan. Wêreldwyd is die getal Tamilsprekers sowat 70
miljoen, wat dit getallegewys bo van die wêreld se gerekende tale plaas. Dit het
‘n ou, opgetekende literêre geskiedenis waarop die Tamils baie trots is.
Maar In Sri Lanka is die Tamils ‘n minderheid, nie net in taal nie, maar ook in die
Hindoe-godsdiens teenoor die meerderheid Singalese wat hoofsaaklik
Boeddhisties is. Buite Sri Lanka en Indië is sowat ‘n miljoen Tamils in diaspora –
met ander woorde Tamils wat in die lande waar hulle nou woon, steeds met die
Tamilsaak in Sri Lanka identifiseer. Veel meer praat nog Tamil as oorblyfsel uit
die koloniale tydperk toe hulle wêreldwyd “uitgevoer” is as arbeid op
suikerplantasies soos in Suid-Afrika, Guyana en eilande in die Stille Oseaan.
Na raming het sowat $300 miljoen aan geld en wapens die Tamil Tiere jaarliks in
hul 26 jaar lange stryd teen die Singalese bereik.
Van baie bevolkings in diaspora word bykans nooit gehoor nie. ‘n Interessante
voorbeeld is die Assiriërs wat nie net in Sirië ‘n Christen-minderheid vorm nie,
maar ook in Australië ‘n beduidende gemeenskap in stand hou.
Oor hoe die meerderheid Suid-Afrikaners in diaspora, die sogenaamde eksas,
voel, is daar nie eenvormige duidelikheid nie. ‘n Groot groep het duidelik
geëmigreer met die doel om burgers van hul nuwe vaderlande te word, ander
werk tydelik daar met die idee om terug te keer, en ander bekyk die kat uit die
boom.
Hierdie saak sal waarskynlik eers behoorlik onder die loep geneem kan word
wanneer ‘n volgende algemene verkiesing gehou word. Met die vorige is op kort
kennis via ‘n hofbevel magtiging verkry om te mag stem, maar tyd om die nodige
dokumentasie te bekom en as kiesers te registreer was te min, en die logistiek
om te stem was dikwels ontoereikend. Wat egter duidelik is, is dat die ANC
weinig steun onder die “eksas” geniet. Wat dit betref, is die algemene “hulle” en

125
“ons” karakter van Suid-Afrikaners in diaspora nie anders as ander
gemeenskappe in diaspora nie.

Orania die geestelike metropool van die Afrikaner


Watter stappe nodig is om Volkstaters om een vuur bymekaar te trek?
Hierdie aspek word deur Johan Wingaard geopper in ‘n bydrae tot die huidige
debat op Praag se webwerf oor die volkstaatkwessie wat in sy jongste gedaante
deur ‘n peiling van Beeld, en ‘n verslaggewer se reaksie daarop, gevoer word.
Of burgeroorlog, soos een deelnemer vra na aanleiding van die felheid waarmee
sommige deelnemers hul standpunte aan dieselfde kant van die gevegslinie stel.
Die debat is voorafgegaan deur die kwessie van groepregte wat te berde gekom
het, en ook in Beeld ‘n draai gaan maak het toe die senior redaksielid en
hoofartikelskrywer, Ferdi Greyling, toegetree het. Hy het ‘n paar betrekhoutjies
na die VF Plus-leier, dr. Pieter Mulder, gemik en ook groepregte met regte vir
blankes gelykgestel.
Soos te wagte is, het Mulder gereageer en die volkeregtelike standpunt gestel –
dit handel oor groepregte versoenbaar met die volkereg, en dan is ras nie ter
sprake nie.
Word egter na die Praag-debat gekyk, is dit nie verrassend nie dat Greyling
onder die indruk was dat ras wel die norm is. Van die deelnemers koester baie
sterk menings oor ras, terwyl ander vra of die Afrikaner se kultuurgoedere dan,
anders as byvoorbeeld dié van die Baske, so ontoereikend is dat ras as norm
bygevoeg moet word.
Om hierdie volkstaters om een vuur bymekaar te kry lyk na ‘n onbegonne saak.
Die tweede komplekse faktor, soos ook deur Greyling in ‘n simpatieker opvolg
uitgewys, is die vraag oor die “waar.” Twee pole is duidelik merkbaar – van
diegene wat meen ons voorouers het vir die hele land, van die Kaap tot Limpopo,
geveg, tot ander wat ‘n beskeie aanvang vanuit ‘n hartland voorstaan. Die
hooffokus val hier op Orania, maar Kleinfontein buite Pretoria sit ook hul bod in.
Die meeste skrywers beweeg iewers in die ruimte tussenin.
‘n Derde manifestasie is die kwessie van die politieke geografie, wat teenoor
konsosiatiewe / korporatiewe gedagtes staan. Die geografiese faksie se
vertrekpunt is ‘n duidelike grondgebied waar vestiging plaasvind en uitgebrei kan
word.Die ander se invalshoek is ‘n Afrikanerowerheid wat oor mense die septer
swaai eerder as grondgebied, en dan grondgebied as tweede fase begin
opneem. Die ideaal is ‘n gekonsolideerde grondgebied, maar eksklawes met ‘n
staatkundige naelstring is ook in die denkraamwerk.
Greyling wys in sy rubriek, met die titel, Volkstaatplakkerskamp, na artikel 235
van die grondwet wat vir selfbeskikking van gemeenskappe voorsiening maak.
Hierdie artikel verg egter bietjie kontekstuele plasing. Dit maak deel van Hoofstuk
14 uit, wat die titel van “algemene bepalings” bevat. Die eerste deel handel oor
Suid-Afrika se gebondenheid, ook regsgebondenheid, tot internasionale verdrae
waarvan dit mede-ondertekenaar is, en die tweede deel hoe die internasionale
reg in die Suid-Afrikaanse reg neerslag vind. In breë trekke geld dit in uitleg en
toepassing in ons reg, tensy pertinent strydig met die plaaslike reg. Artikel 235,
met die opskrif, Selfbeskikking, val onder die hofie “ander sake.” Die artikel fokus

126
eerstens op die “reg” van Suid-Afrika se mense as geheel op selfbeskikking,
maar dat dit nie die reg uitsluit dat gemeenskappe selfbeskikking kan opneem
nie. Die voorwaarde is dat die gemeenskappe se reg nie die groter geheel se reg
mag aantas nie. Die reg tot selfbeskikking moet ook deur nasionale wetgewing
vasgelê word.
Ook hier word die identifisering van ‘n gemeenskap beperk tot taal en kultuur. Dit
sluit dus, soos die volkereg, ras as bepaler uit.
Hierdie artikel erken, in regsterme, die middelpuntvliedende en
middelpuntsoekende kragte wat in lande teenwoordig is, maar bied juridiese
bevoordeling aan die middepuntsoekende uitkoms. Dit is in wese waar die
ongelukkigheid met die Roelf Meyer-Kodesa-opsie in opgesluit lê.
Emosionele, geldige, standpunte word gestel dat die “ANC met die raskwessie
begin het”. Rasbepalings in onder meer regstellende aksie en ras-uitlatings wat
waarskynlik binne die raamwerk van rassistiese opmerkings val deur ANC-
woordvoerders soos Malema en Komphela, word as argumente geopper.
Tussenin is daar die nog-vis-nog-vlees-opmerkings. Zelda Jongbloed, adjunk-
redakteur van Die Burger wil in die nuwe jaar rassisme bly beveg, maar gaan
steeds stoom af oor André P. Brink, en nie ‘n bruin skrywer nie, die Marjorie
Wallace-beurs gekry het. Danny Titus skryf tentatief oor nie-rassigheid, maar
gaan voort om op die prestasies van Koi-stamme te besing wat 500 jaar gelede
die soldate van die Portugese Oos-Indiese Onderkoning De Almeida, aan die
Kaap te verslaan het. Tussenin slaan die bruin belange-inisiatief deur.
Die Beeld-Praag-debat het gekom juis in ‘n stadium waar die
middelpuntvliedende kragte baie sterk word.
Die manifestasie hiervan sal eers oor ‘n paar jaar behoorlik ontleed kan word. ‘n
Beoordeling hiervan geskied dus op die gevaar af dat die ontleder sy rug vir
aanvalle ooplaat.
Dit word nie meer betwyfel dat die Mbeki-era se Afrikanistiese benadering reeds
tot ‘n groot mate van vervreemding gelei het nie. In hierdie era het dit gou geblyk
dat uitsprake om wit, Afrikaner of enigiets wat nie baie swart is nie, as “Africans”
in te sluit, bloot lippediens was. In die praktyk is selfs bruin mens as nie “African
Africans” nie, uit te sluit wanneer dit by sake kom soos poste, plekke in die
Springbokspan en vele meer.
Hoewel daar reeds spore van animistiese tradisionalisme was, soos amptelike
aksies om voorvadergeeste oral in die buurlande en by begraafplase bymekaar
te maak en in kartonbokse na die Vredespark en die Vrouemenument aan te ry,
waar amptelike rituele slagtings plaasvind, het dit in die “hundred percent Zulu
boy” era behoorlik posgevat.
Hoewel baie argumenteer dat pres. Jacob Zuma in baie opsigte ‘n beter
president as Mbeki is, het die Zuma-era die element van elitisme afgeskud en
beleef Afrikaners die animistiese tradisionalisme in ‘n uiters volksvreemde en
basie opgedwingde konteks. Omdat dit amptelik is, is dit bykans, en vir
waarskynlik die meeste, onmoontlik om hiermee te identifiseer, en dus in effek
met Suid-Afrika te identifiseer. Voeg hierby dat onder Afrikanerbeheer sake soos
staatslotery en aborsies op aanvraag ondenkbaar was, en dat die wettiging van

127
prostitusie nie eens op die radarskerm sou verskyn nie. Nou is dit deel van Suid-
Afrikaner wees.
Dit is uit uitsprake ook duidelik dat die grense nog nie getrek is nie. Rituele
slagtings, waarskynlik ook amptelik, word by die 2010-Sokkerstadions beplan, en
Afrikaners is net so ongelukkig om hiermee geassosieer te word soos die
verwagte buitelandse toeskouers, behalwe miskien dié wat van Afrika suid van
die Sahara verwag word. Die ironie is dat die regering skynbaar alles in sy
vermoë doen om Suid-Afrikaners deur die aanbied van die toernooi te verenig,
maar dat die teenoorgestelde effek op groot skaal neerslag vind.
Die impak wat Zuma se veelwywery op die psige van Suid-Afrikaners gaan laat,
moet nog iewers in die toekoms beoordeel word. Intussen verdiep dit die kloof
tussen Afrikaanssprekendes wat liberale idees het, en Afrikaners met meer
tradisionele idees (maar waarvan baie steeds liberaal stem). Die jongste salvo is
die omstrede prof. Christina Landman se artikel op Litnet, en waaroor nou in
Naspers se koerante berig word, waarin sy poligamie onder sekere voorwaardes
van gelykheid as Bybels versoenbaar beskou. Ook op Litnet is nog ‘n teoloog,
ds. Theunis Botha, se artikel waarin hy aan die hand van Nuwe Testamentiese
verse, veelwywery as onbybels beskryf. Dit het nie Naspers gehaal nie.
In vele aanlyn-debatte word dit gewoon as feit gestel dat Naspers as kartel ‘n
liberale politieke agenda bedryf, en dat dit wat na die lesers “deurgegee” word
versigtig geselekteer word. Tim du Plessis, redakteur van Beeld, maar toe nog
redakteur van Rapport, het by geleentheid ontken dat koerante hierdie rol kan
vervul. Hy het toe aangedui dat die “alewige blogs” reeds soveel inligting buite-
om die gedrukte koerante voer dat koerante die gevaar loop om hul
geloofwaardigheid in te boet, en die lesers in elk geval die regte inligting bekom.
Uit die huidige debat blyk dit dat hy min mense oortuig het.
Uit dieselfde stal het Volksblad enkele jare gelede aborsie op aanvraag nie meer
as deel van die openbare debat nie verklaar. Toe die uitbreiding van aborsieregte
in openbare verhore in die Vrystaat aangespreek is, het Volksblad (op een brief
na) en sy gemeenskapskoerante die aangeleentheid geïgnoreer. In die proses is
die lesers deelname aan ‘n wêreldwye debat oor die aangeleentheid, asook baie
nuuswaardige sake uit die openbare verhore self ontneem. Ander Media 24-
publikasies in die provinsie, dié uit die Mooivaal-stal, het wel oor die verhore
berig. (Hoekom, anders as ideologies, sal een groep iets as nuuswaardig
beoordeel en die ander nie?)
Rondom die UV-koshuiskwessie het die beskuldigings van die lesers so fel
geword dat Volksblad sy eie beleid in ‘n hoofartikel gestel het, wat nie van dié
van die DA te onderskei is nie. Van ‘n vroeëre beleidstelling dat dit inbegrepe is
dat die koerant Christelik is, was daar dié keer geen teken nie.
Tot Volksblad se krediet, dra dit gereeld nuus van die Vryheidsfront Plus – heel
moontlik meer dikwels as Beeld en Die Burger – en ook ongetwyfeld meer nuus
van die ACDP toe dit nog in die provinsiale wetgewers vd VS en NK
verteenwoordig was, en nou van die Christen-Demokratiese Alliansie as sy
susterkoerante.
Sedert Tim du Plessis enkele jare gelede ‘n “Damaskuservaring” gehad het word
sy kommentare en toeligtings met veel meer respek in die meer behoudende

128
Afrikanergeledere geabsorbeer as tevore. Tim se alternatiewe aanslag het
skynbaar gevolg na ‘n vriend van sy seun weens velkleur nie in SA werk kon kry
nie, en toe swart redakteurs kort hierna pres. Mbeki die rug toegekeer en die
dam van politieke korrektheid gebars het. Groter wisselwerking met Solidariteit
en Afriforum het ook blykbaar tot ‘n normalisering van verhoudinge bygedra.
Dié groter aanvaarding se vel is egter dun, soos die ontstokenheid blyk toe Tim
“durf waag het” om vir sy verslaggewer, Pieter du Toit, in die bresse te tree.
Duidelik was daar agter die skerms ‘n geskarrel.
Uit die aanlyn-reakasies is dit duidelik dat ‘n groot deel van die Volkstaters Jan-
Jan Joubert as die “prime evil” beskou. Jan-Jan het kort van Lise Albrecht se
aanstelling as redakteur van Rapport, ook na Rapport verskuif. Uit die era van
Lise se redakteurskap van By kan geen ander afleiding gemaak word nie dat sy
‘n sterk liberale agenda gedryf het soos ‘n opmerklike groot voorkeur vir Max du
Preez. Max is selfs ruimte gebied om in sy bydraes sy persoonlike byltjies met
senior Media 24-bestuurlui te kruis. Ook heel duidelik was hier gereelde
ingrypings “van bo af” om die skade ongedaan te maak.
Met haar aanstelling by Rapport het Max nog prominenter saamgery. Ook hier
het dit gou die wind van voor gekry toe Max sy nuwe speelveld vir sy vendetta
teen ‘n Media 24-bestuurlid aangeknoop en vierde beste daarvan afgekom het.
Die slotsom is dat dit wil voorkom asof die Naspers-gedagtekartel nie presies
weet hoe om die saak as strategie te bedryf nie, en op regionale vlak die water
toets en op “trial and error” ‘n koers probeer vind.
Die waterdiepte rondom die volkstaatgedagte is duidelik getoets, en toe dit iets
anders oplewer as wat verwag is, is aanvanklik lomp opgetree. Senior breinkrag
moes inspring om die saak so diskreet as moontlik weer vlot te probeer kry.
Die lomp hik het egter ‘n paar sake baie duidelik belig:
- Middelpuntvliedende kragte loop nou baie sterk. Belange- en
waardevervreemding het nou net te lank aangehou. Die polarisasie is nie net
deur swart aangedryf nie, maar deur blank ook soos Antjie Krog se boek,
Begging to be Black (moontlik juis omdat baie mense nie verder as die voorblad
lees nie), en gereelde klippe in die maag van Max se kant af.
- Die teenstanders van die volkstaatgedagte het (nie meer) die kennis en
kundigheid om die saak wetenskaplik, staatkundige en volkeregtelik aan te
spreek nie. Dit lyk of hulle hul ore eksklusief uitleen aan daardie voorstanders
wat oor ewe min kennis beskik en die aangeleentheid emosioneel hanteer. ‘n
Tipiese gevolg is dat Naspers grootliks dié gedagtes as “uitgedien” probeer
voorhou, in plaas van die werklikheid dat dit interbnasioneel die hoofnorm is
(soos oa in die Europese Unie se grondwet ondervang).
- Dat Suid-Afrikaners wat ‘n ongefilterde wêreldmening oor groepregte wil
vorm en die nuusgebeure hieroor wil volg, hulle op die internet moet verlaat. Die
hoofstroommedia gaan eenvoudig nie berig oor die nuutste etniese deelstaat wat
in Indië tot stand kom nie, oor regstryde in die VSA oor die outonomievlakke van
Indiaanse reservate nie, oor die uitbreiding van Koerdiese selfbeskikking nie, en
vele meer. Wanneer wel oor hierdie sake verslag gedoen word, is dit gewoonlik
net oor die geweld wat soms in hierdie situasies voorkom soos Baskiese terreur.

129
In die debatte waar verskillende volkstaatopsies na vore kom, word geraak-raak
aan opsies wat deur die volkereg erken word. Om dit volledig te omskryf is ‘n
verhandeling aangewese. Hierdie opsomming probeer dus nie voorgee volledig
te wees nie, en “trou” in ‘n mate die Staasreg, Volkereg, politieke wetenskap,
politieke geografie en politieke sosiologie om kernagtig te kan wees.
Op die nie-geografiese terrein word die terme soos konsosiatiewe of
korporatiewe selfbeskikking of federasie gebruik. Op die Afrikaner toegepas sou
dit neerkom op ‘n Afrikanerowerheid met taamlike wye magte (ook wetgewend)
soos die Maori-kongres of –parlement. Dit kan byvoorbeeld na
moedertaalonderrig omsien, om een voorbeeld te noem. Aanvanklik hoef dit
geen grondgebied te hê nie.
‘n Tweede manifestasie is om ‘n aantal gewaarborgde setels in die nasionale
parlement (en dalk provinsiale wetgewers) te verkry, soos wat die pre-Indiese
inheemse bevolking gewaarborgde setels in die Indiese parlement het.
Op die geografiese terrein kom volkeregtelike terme soos sesessiereg (wat intree
as daar teen die groep gediskrimineer word), selfregerende gebiede, outonome
gebiede, etniese federasievorming (soos in België), konfederalisme, enklawes en
eksklawes en vele meer voor. Die vlak van outonomie word bepaal deur die vlak
van diskriminasie tot die vlak van uiteindelike volledige onafhanklikheid. ‘n
Minderheidsgroep wat hom binne so ‘n gebied bevind wat afgeskei het, se reg op
sessie ontstaan weer op dieselfde wyse.
Weens die bevolkingsverspreiding van die Afrikaner sal na wisselvorme, of
hebride, van hierdie moontlikhede gekyk moet word. Hierdie wiele is reeds
ontwerp en lê min of meer in die argiewe van die destydse presidentsraad se
staatkundige komitee en die volkstaatraad en stof vergaar. Die interessantheid is
dat prominente lede van die Volkstaatraad ook eers baie laat, en betreklik
beskeie, tot die huidige debat toegetree het.
Politieke geograwe is dit egter eens dat state oor kerngebiede, die sogenaamde
hartland, moet beskik.
Dit is tipies om die hoofstad geleë, nie noodwendig die digsbevolkte gebied nie.
Verskeie lande het hierdie werklikheid gebruik om ‘n onderontwikkelde hinterland
te ontwikkel. Brasilië, met sy hoofstad wat uit die niet by Brasilia gebou is, is ‘n
goeie voorbeeld.
Ander lande kies by samesmelting ‘n neutrale hoofstad, soos Washington DC en
Camberra.
In hierdie opsig bied Orania ‘n belangrike vertrekpunt. Hoewel Orania in
bevolkingsgetalle beskeie is, het dit in die geesteswêreld van die Afrikaner
metropoolstatus verwerf.

Volkstaat: Dit sal help as die tekste van reeds gedane navorsing internet-
toeganklik kan wees
In die ou dae, so is gespot, het “die “Engelse” Prog gepraat, SAP gestem en die
Here gedank die NP is aan bewind.
Vandag, so lyk dit, stem die Afrikaner Prog, hy dink HNP en hy word
geïndoktrineer om nie sy godsdiens na sy politiek deur te trek nie.

130
Dit is min of meer die gevolgtrekking wat ‘n mens moes maak met gisteraand se
aanbieding van RSG se program, Kommentaar.
Die rede vir dié afleiding was die teenwoordigheid van dr. Piet Croukamp op die
paneel.
Gewoonlik word die beste resultaat vir ‘n besadigde politieke ontleding verkry
deur ‘n welsprekende, goed ingeligte persoon uit die sentrum, wat in staat is om
standpunte van die vleuels te akkommodeer. Croucamp het hom egter openlik,
en by tye by herhaling, namens “ons” vanuit die liberale hoek uitgedruk.
Croukamp is goed belese en gewoonlik vlymskerp akkuraat, maar sy vorige
deelnames is gekenmerk deur ‘n tien persent waar hy “dit” verloor, en sy
subjektiwiteit hom platloop. Dan neig hy om sommer blatant ongeskik te wees.
Gisteraand het ongelukkig weer daardie tien persent opgelewer.
Die joernalis wat die hele diskoers oor die volkstaat op dreef gekry het, Pieter du
Toit, het heel besadig oorgekom, en by tye selfs die indruk geskep van iemand
wat nie so sebore is nie, maar so semoer.
Die doel van hierdie bespreking is egter nie om gisteraand se Kommentaar per
se te ontleed nie, maar die vreemde verdwyning van politieke wetenskaplikes en
staatsregslui uit debatte en gesprekke oor die volkstaatgedagte. Vreemd, omdat,
anders as wat dit gereeld in die media voorgestel word, die omringende kwessies
soos selfbeskikking, selfregering en die sesessiereg modern en volkeregtelik
suiwer is.
Vreemd, ook, omdat die middelpuntvliedende kragte wat die volkstaatgedagte
nou impetus gegee het, naamlik vervreemding as gevolg van die ANC se
hantering van die situasie, heel gangbare gesprekmateriaal geword het nadat
swart redakteurs die politieke korrektheid afgetakel het en die wit redakteurs deur
hierdie gat in die dyk gestroom het..
En nog vreemder, omdat baie van die politieke wetenskaplikes en staatsregslui
wat in die jare voor en kort na 1994 stem dik gemaak het hieroor nie intussen
dood is nie, en skynbaar ook nie van standpunt verander het nie.
‘n Deel hiervan kan miskien verklaar word aan die hand van die feit dat die
meeste wie se menings gewig dra, in die akademie in diens is, en dat hulle hul
loopbane koester. So asof hulle vertroue verloor het dat die hoogaangeskrewe
liberale bedeling en sy grondwetlike waarborge aan dié mense ook daardie
vryheid bied. Meer as ‘n dekade gelede het minstens sommige van die
universiteite se Politieke Wetenskap-departemente die Noord-Suid-diskoers na
sowat ‘n halfeeu op die rak van uitgediendheid gaan afhaal en afgestof.
Hierdie benadering behels in sy korste moontlike opsomming dat die Noorde (die
ontwikkelde lande van die Noordelike halfrond) verantwoordelik met aanwas
moet omgaan sodat hul ekonomieë die onbeheerste aanwas van die suide (meer
in besonder Afrika suid van die Sahara) kan onderhou. ‘n Uitgediende
benadering is afgestof, maar die moderne word gerak.
Trouens, so swygsaam, en soms blatant onkundig soos die departementshoof
van Politieke Wetenskap aan Kovsies soos uit ‘n radio-onderhoud geblyk het) is
die hedendaagse akademici dat ‘n mens wonder of outonomie, selfregering en
soortgelyk hoegenaamd deel van die leerplanne is. En dan dalk nog te wonder

131
hoekom al hoe minder Suid-Afrikaanse universiteitskwalifikasies oorsee die
papier werd is waarop dit gedruk is.
Daar is egter ‘n ander moontlikheid hoekom die werklike akademici so swygsaam
hieroor geword het, en die ontleedwerk terugval op onafhanklike ontleders en
joernaliste met mindere kwalifikasies (soos die uwe).
‘n Aantal jare gelede het ‘n akademikus en intellektuele reus, en bekende
Staatsregkundige as onafhanklike kandidaat vir die KP in ‘n tussenverkiesing
gestaan. Sy opponent was ‘n persoonlike vriend van ‘n NP-minister, en dié weer
van die redakteur van ‘n bekende Afrikaanse dagblad. Dié redakteur was weer
legendaries vir sy baie kort lont. Die gevolg was ‘n swartsmeerdery van die
akademikus op die laakbaarste denkbare vlak. Die prof het nog ‘n klag by die
persombudsman of iets dergeliks ingedien, maar selfs met sy regskennis dadels
uitgerig. Sedertdien is sy pennevrug ligjare verwyder van dit waarin hy ‘n
meesterkenner is.
Aanverwant hierby is die aard van kritiek wat akademiese skryfwerk oor die
onderwerp ontlok. ‘n Persoon wat bloot die regs- en staatkundige posisie
uiteensit, nie eens al is hy ‘n professor met vier doktorsgrade nie, skryf die
volkereg nie. Hy gee dit bloot weer. As hy / sy dan uitwys dat die kwessie van ras
volkeregtelik nie deel van die pakket uitmaak nie (dit eintlik net bemoeilik) sê hy /
sy dit omdat dit so is, sonder in agneming van eie gevoel.
Om dan hieroor ‘n pot kokende olie op ‘n mens omgekeer te kry sal die meeste
akademici wyd laat hou. Dit laat boonop die vraag ontstaan of die Afrikaner se
kultuur dan so minderwaardig is dat dit nie soos in die geval van die Baske, die
Letlanders, Armeniërs en ander op eie bene volkeregtelike status kan verwerf
nie, maar ras bygesleep moet word. (Volk is ‘n vrywillige assosiasie en Koos
Kombuis kán dus bedank, maar ras is moeiliker om af te skud al “beg” Antjie
Krog ook “to be black.”)
Ja, dit is so dat die ANC met die ras-storie begin het, maar dit verander bloot die
intensiteit van onderdrukking wat die norm is om die vlak van outonomie
volkeregtelik te bepaal – nie die definisie van volk nie. Van die kritiek kom van
mense wat nogal baie herinner aan die storie van die boer wat bobbejane met
pampoene vang. Hy maak gate daarin waardeur die bobbejaan se hand net mooi
pas, maar as hy sy hand ingesteek het en ‘n handvol pitte beetgekry het, kan hy
nie weer sy hand uitkry nie. Die boer sal hom bo-op daai pampoen doodslaan
maar laat los sal hy daai pitte nie laat los nie. En nee, dis nie my eie uitdinksel
dié nie, dit kom amper 25 jaar gelede van ‘n baie regse argitek.
‘n Ruk gelede het dr. Christo Landman in ‘n artikel geskryf dat hy meen onder die
stappe ter voorbereiding van Afrikaner-selfregering, ook die opleiding van leiers
op die beplanningstafel moet wees. Hierna het ander in soortgelyke terme
menings gehuldig. Die feit is dat enige proses na selfregering, outonomie en / of
die volkstaat pragmaties en regstegnies baie kompleks is, en dat dit uiters
kortsigtig is om die mense wat die volkstaters bitter nodig gaan hê – die
akademici met die doktorsgrade en werklike gevorderde kwalifikasies en kennis
– van internasionale standaarde – en nie soos strooipoppe op te stel en dan aan
flarde te skiet nie.

132
Miskien het iemand die vaardigheid en tyd om die toepaslike verslae van die
Presidentraad se Staatkundige Komitee en die Volkstaatraad, asook toepaslike
voorleggings aan Kodesa, in teksformaat te skandeer en op ‘n webwerf te plaas
sodat dit makliker bestudeer kan word. Dan sal mense wat op webwerwe so van
die heup af skiet met min moeite kan gaan kyk en self sien dat al vier wiele reeds
ontwerp is en dat heelwat na die kalibrering reeds gedoen is voor dié werk
ashoop toe verban is. Met hierdie kennis weer terug in die hoofstroom-
besprekings sal daar hopelik minder skadelike “juweeltjies” uitgehoes word, selfs
al is die skrywers en samestellers van hierdie berge werk self nou buite die
besprekingspoel.
Ek maak die afleiding dat dié werk nie algemeen elektronies op die net is nie
omdat ek niks van my eie werk raakgeGoogle kry nie, terwyl ek weet verskeie
van die verslae dui my naam in hul bronnelyste aan. (Google dui wel van die
verslae aan, maar my eie pogings om die verslae se inhoud self op die skerm te
kry was onsuksesvol.)

Nuuskommentaar: Afrikaner en die volkstaat – Debat of burgeroorlog?


‘n Sinikus merk op dat die Afrikaner se volkstaat bestaan – op die internet, en
dat daar reeds ‘n burgeroorlog in uitgebreek het. So erg is die skynbare
burgeroorlog dat van die deelnemers al vir vrede pleit.
Die aandag is hierop gevestig toe Beeld se aanlynpeiling aangedui het dat die
meeste respondente dit sou oorweeg om in ‘n volkstaat te woon.
As by hierdie oppervlakkigheid verbygekyk word, is daar egter ‘n kernwaarheid
en dit is dat hierdie debat toon dat dit in heelwat mense se harte nesgeskop het,
en dat hierdie groep mense weens die huidige polarisasie en ander
middelpuntvliedende kragte groei.
Die verhaal word vertel van twee Korannagroepe wat haaks was en vanaf twee
naasliggende koppies op mekaar losgebrand het. By geleentheid val daar toe ‘n
verdwaalde koeël tussen die lotjie op die een koppie, en terstond word die wit
vlag gehys, want iemand kan dalk seerkry.
Kanoneiland het volgens oorlewering sy naam te danke aan ‘n voorval toe ‘n
strafekspedisie boere na die eiland opgeruk het. Die Korannakaptein kry ‘n blink
gedagte, en span ‘n hol kokerboom as kanon in. Agter is buskruit of dinamiet
gelaai, en voor klippe en enige denkbare ding wat kan seermaak. Toe die skoot
afgaan, is daar dood en verwoesting in die Korannageledere. Die kaptein, toe hy
tot verhaal kom, sê egter. “Dink net, as dit hier só lyk, hoe lyk dit nie by die Boere
nie.”
Aan die aard en intensiteit van die bekgevegte kan tong in die kies gevra word of
‘n gepaste naam vir ‘n Afrikanerstaat nie ook iets tot die effek van Kokerbomstaat
sal wees nie.
En dit is net die geveg onder die voorstanders en simpatiseerders.
‘n Aantal jare gelede het Tsjeggië en Slowakye besluit om elkeen sy eie koers in
te slaan. Ethiopië en Eritrea se skeiding het minder vreedsaam verloop en die
spaanders vlieg steeds gereeld. Tog was daardie skeidings – beide staatkundig-
geografies baie simplisties teenoor die omvattende skaal jerrymandering wat ‘n
staatkundig-geografiese sesessie hier sal vereis. Dit op sigself het die graaf van

133
loopgrawe tot gevolg, en terwyl daar vanuit die loopgrawe nog net met kleilatte
op mekaar losgetrek word, klink die gepaardgaande bekgeveg soos ‘n warm
oorlog op sy heetste.
Die korporatiewe en konsiatiewe selfbeskikkers vuur intussen loskruitpatrone van
die flanke af.
Die aard van die bekgevegte dui op onderlinge ideologiese warmbroeiery in
ideologiese kantons. Tog kristalliseer drie hoofstrome uit: Diegene wat binne ‘n
grondwetlike raamwerk na ‘n vorm van selfbeskikking mik, dié wat ten minste
aan volkeregtelike vereistes wil voldoen – iets wat nie noodwendig dieselfde as
die vorige is nie omdat die Suid-Afrikaanse grondwet wat hierdie aspek betref ver
van die Volkereg verwyder is – en diegene wat nie ‘n snars omgee wat iemand
anders as hulself wil hê nie, ongeag die gevolge.
Intussen word die historiese werklikhede en die volkereg kruis en dwars met
knuppels oor die slagveld gejaag en neergevel. Die navorsing van die destydse
Presidentsraad se staatkundige komitee en die Volkstaatraad lê grootliks en stof
vergaar. Dit sluit omvattende lewensvatbaarheidstudies in.
Terwyl in hierdie burgeroorlog genoeg energie opgewek word en verspil word om
Eskom se kragkrisis die hoof te bied, kan uit ander aanlyn-debatte en
briewekolomme waargeneem word hoe – soos hulle uitgekryt word – neo-
konserwatiewes - anderkant die Wingerdgordyn gejag en neergevel word bloot
omdat hulle hul ten gunste van die behoud van Afrikaans as onderrigmedium by
die Universiteit van Stellenbosch uitspreek.
Terwyl hierdie energie verspil word, het ‘n tweede Vrystaatse plaasaanval
vanjaar plaasgevind, dié keer sonder lewensverlies omdat die vuurwapen drie
keer geweier het om te vuur. Skole het intussen geopen, heel waarskynlik met
minder Afrikaanse onderrig as toe dit verlede jaar gesluit het.

Nuuskommentaar: Beeld-peilig en die volkstaat


Soos verwag sou kon word ontlok die uitslag van ‘n Beeld-peiling dat die
meerderheid respondente aandui dat hulle gunstig voel daaroor om in ‘n
volkstaat te gaan woon, baie reaksie – van beide voorstanders en teenstanders.
Al was dit geen wetenskaplike peiling nie, is daar enkele faktore wat nie uit die
oog verloor kan word nie.
Ten eerste kan daar nie ongekwalifiseerd gesê word die kiesers – ook
Afrikanerkiesers – stem vir partye wat nie ten gunste van ‘n volkstaat is nie.
Dieselfde kan gesê word van kwessie waar wetenskaplike peilings wel ‘n
meerderheidskeuse aandui, soos die doodstraf waar die meerderheid daarvoor
is, en aborsies op aanvraag waar die meerderheid daarteen is. Dit word egter nie
in verkiesingsuitslae weerspieël nie.
Hierdie peiling, en die stemkeuses wat studente aan sommige universiteite met
studenteraadsverkiesings maak, dui daarop dat hier ‘n tendens is wat nie
gevolgloos onder die tafel gevee kan word nie. Om diegene wat nou ‘n pro-
volksdtaatsentiment uitspreek as agterlik te probeer uitbeeld, dra bloot bly tot die
polarisasie wat peilings aandui sterk teenwoordig is.
Aan beide kante van die spektrum word foute gemaak. Onder die teenstanders is
daar ‘n duidelike, en moontlik moedswillige onkunde wat in oorvereenvoudigde

134
retoriek neerslag vind. Die politieke wetenskaplike en staatsregtelike
waarnemers sal minstens geïrriteerd wees oor ignorering van die stapels werk
oor komplekse opsies wat deur die gewese Staatkundige Komitee van die
Presidentsraad en later die Volkstaatraad gedoen is. Die opsies is legio, en vir
bykans elkeen is lewensvatbaarheidstudies gedoen. Baie Suid-Afrikaners sal
moontlik onthou hoe terminologie soos regionale selfbeskikking, konsosiatiewe
en korporatiewe selfbeskikking, kiesstelselverskansing, sesessiereg en vele
meer in omloop was.
Die kritici, by wyse van spreke, maak hulle skuldig aan die Namakwalandse
spreekwoord wat lui: “As ‘n donkie sy bek oopmaak val daar kaf uit.”
Hierdie opsies is volkeregtelik veranker en vind neerslag in grondwette soos dié
van die Europese Unie, Indië, Nieu-Seeland, Kanada en die VSA. Indië het juis
aan die einde van verlede jaar besluit om nog ‘n etniese deelstaat by sy huidige,
meer as dertig, te skep.
Onder die voorstanders word ook lelik kleigetrap. Terwyl die oorhoofse denkers
doodseker maak dat dit wat op die tafel kom volkeregtelik versoenbaar is, word
op ander vlakke luidrugtig gepredik vir opsies wat nié hierdie toets sal weerstaan
nie. ‘n Skeptiese waarnemer kan byvoorbeeld gerus die Vryheidsfront Plus se
webwerf en beleid gaan deurkruis om te kyk of daar verwysings na ras is. (Daar
is wel enkeles, hoofsaaklik in nuusverklarings van die VF+ Jeug en dan
hoofsaaklik oor kampusingrasie).
Die konsep, volk, is die bousteen van die verskillende outonomie- en
soewereiniteitsvlakke wat volkstaat- en selfregerende gebiede onderlê.
Gesaghebbende woordeboekdefinisies en die Volkereg maak nie voorsiening vir
ras as norm om die begrip “volk” te omskryf nie. Tog is die literatuur gesaai van
inskrywings wat daarop dui dat ras as een van die hoekstene beskou word, en
sommiges verwys selfs na die blanke volk. Dit ruk die mat van aansprake op
volkeregtelike sanksie onder die aanspraakmakers uit.
Maar selfs al sou die volkstaatgedagte nie volkeregtelik veranker of
lewensvatbaar wees nie, kan geen teenstander objektief verbaas wees dat dié
sentimente teenwoordig, en dalk selfs uitbrei nie. Soos een Praag-besoeker
geskryf het: Elke keer wat Julius Malema sy mond oopmaak, bekeer hy duisende
nuwe mense tot die volkstaatgedagte. Die rits voorbeelde is oneindig lank – ‘n
president wat teen die godsdiens- en kultuuropvattins van baie vrou op vrou vat
met wie hy eers buitehuwelikse seks gehad het, die impak van regstellende
aksie, ‘n volgehoue reeks aanvalle en moorde op boere en ‘n gewoonlik
dawerende swye van die regering .....
Die vuur van middelpuntvliedende kragte kan nie gevolgloos gestook word, en
die middelpuntsoekende kragte afgeskeep word, en dan verbaas waargeneem
word dat polarisasie wél plaasvind nie.
Om die dinamika te verstaan, kan Piet Retief se manifes in die Grahamstown
Journal gerus op die internet gelees word. Die leser kan sommer ook op die
fatsoenlikheid van woordkeuses let.

135
Debatteer volkstaatgedagte binne aanvaarbare en fatsoenlike grense
Die Beeld-peiling wat aan die lig bring dat die meerderheid lesers wat gereageer
het aandui hulle sal in ‘n tuisland wil woon, en Pieter du Toit se reaksie hierop
demonstreer ‘n dinamika in Suid-Afrika, of eerder, ‘n veelheid hiervan.
Ten eerste word die uitslag van die peiling nie in verkiesingsuitslae gereflekteer
nie. Word die kruisies getrek, stem die meeste Afrikaanssprekendes, studente
aan sommige universiteite uitgesonder, vir die Demokratiese Alliansie wat lynreg
teenoor die volkstaatgedagte staan.
Om die peiling egter af te maak, is ook gevaarlik. Peilings dui ook daarop dat die
meeste Suid-Afrikaners teen aborsie op aanvraag gekant is, die doodstraf
heringestel wil hê en verskeie sake waarteen die partye wat die stemme trek,
hulle sterk uitspreek, of soos in die geval van die DA, soms keusevryhede
toelaat.
Die partye wat dit verteenwoordig wat volgens die peilings die kiesers se keuses
weerspieël, trek soms bitter min stemme. Dit geld nie net die Afrikaner, of dan na
kleur verwys moet word, wit, nie.
Die woordestryd rondom die volkstaatgedagte word ook nie binne die reëls
gespeel nie. Die voorstanders wat die saak volkeregtelik en intellektueel
benader, hou die kwessie van ras so ver as moontlik buite die speelveld juis
omdat die volkereg nie ras as norm vir “groep” en dus groepregte, erken nie, en
dat hierdie aksies maklik as “rassisties” uitgemaak kan word omdat verskillende
mense verskillende idees het oor wat rassisme beteken.
Die intellektuele skram dus weg van die raskwessie omdat dit ‘n onnodige
kwessie is. ‘n Afrikanervolkstaat sal per definisie Suid-Sotho’s, Zoeloes,
Griekwas en ander uitsluit sonder dat die kwessie van ras ooit op die tafel
geplaas is.
So beskou, is van die grootste vyande van die volkstaatgedagte dan juis in eie
geledere – mense wat suiwer volgens rasnorme dink en hierdie denke in onder
meer hul godsdiens verskans. Die intellektuele voorstanders probeer om hierdie
mense nie te antagoniseer nie, en is dikwels vaag of help doodgewoon nie reg
nie.
Die teenstanders van die volkstaatgedagte teer op hierdie los lont.
Tydens die bestaan van die Volkstaatraad, en daarvoor, die Staatkundige
Komitee van die Presidentsraad, is die kwessie van volkstaat soos selde tevore
gedissekteer. Terminologie was volop: konfederalisme, korporatiewe en
konsosiatiewe federalisme, outonomie, soewereiniteit, geografiese
hartlandgebiede, blokstemstelsels ...
Dit kom daarop neer dat daar talle bestaande modelle, teoretiese modelle en
potensiële mengvorme is. Voor- en teenstanders van die volkstaatgedagte neig
om hierdie saak te simplisties te stel, en sodoende die rykdom van moontlikhede
‘n onreg aandoen.
Wat Du Toit in sy reaksie bemerk, is hoe die gemoedere van mense op
middelpuntsoekende en middelpuntvliedende kragte reageer. Soos iemand
onlangs op Praag se webtuiste geskryf het – elke keer wat Julius Malema sy
mond oopmaak bekeer hy duisende mense tot die volkstaatgedagte. In kort, die
kragte bevorderlik vir volkstaatdenke en –sentimente, broei en groei nie net in die

136
gemeenskap wat hierdie gedagtes koester nie. Wanneer die grondwetlike wigte
en teenwigte oor sake wat vir hom belangrik is, uit ander geledere onder druk
kom, word die vertroue in daardie wigte en teenwigte getoets, en kan te lig
bevind word.
So word, by wyse van spreke, die terrein anderkant die Rubicon algaande
minder aantreklik, en is die gras aan die oorkant – waarvandaan gekom is, al hoe
aantrekliker.
Om hierdie gedagtes te koester, is nie soos die teenstanders graag verkondig,
iets eiesoortig aan “regse Afrikaners” nie.
Trouens, dit is taamlik universeel, soos gemanifesteer in die grondwette en
praktyk in byvoorbeeld Indië en die Europese Unie. Heel dikwels, wanneer
middelpuntsoekende kragte op ‘n oorhoofse grondslag konfederale kenmerke
begin toon, soos die Europese Unie, “balanseer” dit op regionale outonomie,
byvoorbeeld die Baskiese en Kataloniese selfregerende gebiede, die
federasievorming van België, en die herlewing van die Skotse en Walliese
parlemente, en vele meer ander manifestasies.
Namate die wêreld in ‘n neutedop begin “krimp,” sal dit noodwendig wees dat al
hoe meer Suid-Afrikaners, ook Afrikaners, bewus word daarvan dat groepe
elders ter wêreld op verskeie maniere outonomie geniet, en dat dit nie net as
fatsoenlik beskou word nie, maar volkeregtelik geldig. Hierdie bewuswording vind
plaas te midde van faktore soos ‘n president wat vir hom ritse vroue aanskaf,
Malema Afrikaners tot outomie-gedagtes “motiveer”, die regering bykans altyd
soos die graf swyg oor plaasaanvalle, Mugabe omarm...
In die harte ontstaan vrae soos:
“Hoekom is ek kamma ‘n rassis as ek myself in ‘n identifiseerbare groep wil
uitdruk waarin ek tuis voel, as Indië beplan om nog ‘n etniese deelstaat te skep?”
“Hoekom moet ek my op grondwetlike regte beroep as voortspruitende
arbeidswetgewing my, as blanke man, pertinent uit voorkeuraanstellings weer?
Wie is nou eintlik die rassis?”
“Hoekom mag die Maori’s ‘n eie kongres, of dan parlement met taamlik wye
magte hê, en Indiaanse stamme redelike ingrypende regeerregte in hul
reservate, as ek as Afrikaner nêrens so iets mag hê nie?”
“Hoekom maak die volkereg spesifiek voorsiening vir minderheidsregte as die
Afrikaner hiervan uitgesluit moet word?”
“Hoekom is ek dislojaal en ‘n rassis as ek gekant is teen rituele slagtings ter ere
van voorvadergeeste tydens die Wêreldsokkertoernooi as ek, as Christen, glo
Jesus het self die finale offer gebring en dat offerandes aan Christus die
boodskap stuur Sy offerande was onvoldoende?”
“Hoe kan ek tevrede wees as die regering besluit Bram Fischer en Beyers Naudé
was Afrikanerhelde wat ek ook as sodanig moet beskou?”
As ‘n regering hierdie soort middelpuntvliedende kragte wil teenwerk, hoe
behoort dit te werk te gaan?
Ten eerste moet die Afrikaner nie as vreemdeling in sy eie land behandel te word
nie, en nog minder moet dit - soos die Israeliete in Egipte aan skynbaar
ewigdurende slawerny onderwerp moes word - “ewigdurend” aan regstellende
aksie onderwerp word.

137
Moenie alles wat vir die Afrikaner dierbaar is, soos plekname, vernietig as daar
werkbare alternatiewe is nie.
Moenie van die oranje van Vrystaatse sportspanne ‘n omstrede politieke kwessie
maak nie.
Hierdie lys is al bitter lank.
Allermins wil die slagoffers van regstellende aksie by hul (jonger) landgenote,
wat dit na gekussingde poste gemaak het en daar gekoester word,
“aangespreek” word omdat hulle nie dieselfde voel oor die deugde van ‘n land
wat al moeiliker word om oorsee as fatsoenlik voorgestel te word. Iemand kan
eenvoudig nie geslaan word om bly te wees oor iets waarmee hy ongelukkig is
nie.
Die saak het ‘n keersy. Gaan lees gerus weer Piet Retief se manifes in die
Grahamstown Journal op die internet, wat onder baie soortgelyke
omstandighede opgestel is, en wat in wese dieselfde oogmerke as die
volkstaatdenke weerspieël. Let op die fatsoenlikheid, selfs gemeet teen die
teenswoordige Suid-Afrika se politieke korrekte woordkeuses.
Fatsoenlike woordkeuses wen vriende. En nie almal slaag hierin nie, en rig hul
eie saak oneindig skade daardeur aan.

Nuuskommentaar: Die fisiologie van versoening vereis veel meer as


simboliek
Die “debat” oor die moontlikheid dat pres. Jacob Zuma dalk as
“versoeningsgebaar” kwytskelding gaan gee aan Eugene de Kock laat die
gemoedere in sommige geledere kook.
Te midde hiervan meen Rapport se Jan-Jan Joubert die keuse van De Kock as
versoeningsgebaar teenoor die Afrikaner is ‘n mistasting van wie en wat die
Afrikaner werklik is.
Dit bring wel ‘n geldige saak na vore.
Soos enige volk met ‘n gevestigde demokratiese tradisie sal daar geen
uniformigheid by Afrikaners wees nie, ook nie wie sy helde sal wees nie. Dit is
immers duidelik gedemonstreer toe ‘n vrou die Universiteit van Stellenbosch
oortuig het om ‘n ere-doktorsgraad aan wyle Bram Fischer toe te ken.
In Bloemfontein staan die glaspaleis, hoofkwartier van die Mangaung-
munisipaliteit, amptelik as die Bram Fischergebou bekend. By meer as een
geleentheid is al uit ANC-geledere gesê dit bewys dat die ANC ook Afrikaners
vereer.
In sy inhuldigingstoespraak as nuwe rektor van die Vrystaatse Universiteit het
prof. Jonathan Jansen ook Fischer se lofrede besing, vermoedelik om
Afrikanersentimente te midde van veranderingspolitiek te paai.
Pogings is ook aangewend om die lughawe by Kaapstad na Fischer te vernoem.
Selfs Max du Preez se mees verbete pogings kon nie daarin slaag om van
Fischer ‘n Afrikaner-volksheld te maak nie.
Nog iemand wat graag vernoem en as sogenaamde bewys van versoening
teenoor die Afrikaner genoem word, is wyle Beyers Naudé. Soos die terminaal
siek Shabir Shaikh het sy familie ook die vorige bedeling oortuig dat Naudé baie

138
siek is, en nie lank het om te leef nie, en sy inperkingsbevel is opgehef. Naudé
was hierna nog lank aktief, soos met die Waarheids- en Versoeningskommissie.
Koöptering om Afrikanergesindhede jeens die ANC te swaai soos die opname
van Marthinus van Schalkwyk, en nou soms sinies verwys na dr. Pieter Mulder,
loop ook gereeld in wisselende mate deur. Sommiges tref ‘n onderskeid tussen
Mulder se koöptering en dié van Van Schalkwyk onder meer omdat die landbou-
bedryf na jare se bedenklike politieke bestuur gered moes word.
Mulder se styl van adjunk-ministerskap staan ook in skrille kontras met ‘n
voorganger, Dirk du Toit, wat Afrikaners sterk teen die ANC help polariseer het.
Daar is egter meer konkrete stappe wat die regering kan doen om versoening
met die Afrikaner oor ‘n breër front tasbaar gestalte te gee. Hieronder tel die
behoorlike verskansing van taalregte, soos in die opvoeding op alle vlakke, die
inneem en volhou van ‘n standpunt wat geen twyfel by voornemende
plaasaanvallers laat dat boere nie vry buit is nie, die opheffing van
rasgebaseerde regstellende aksie ...die lys is baie lank.
Simboliese aksies kan soms nodig wees, maar sonder dat dit die kern van die
probleem aanspreek beteken dit min, of kan selfs boemerang. Enige moontlike
wins uit die simboliek sal in die wind verwaai solank as wat Julius Malema nie net
toegelaat word om ongehinderd polariserende opmerkings te maak nie, maar dit
ook nie gerepudieer word nie.
Die goeie hoofmanskap om saans by die vuurtjie van elke familie te gaan sê wat
daardie familie wil hoor, werk nie met alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe nie.
Danksy die media weet die mense by een vuurtjie in elk geval wat vir die mense
by ‘n ander gesê word.
Dié praktyk is daarom net so onaanvaarbaar soos om tot die land se hoogste
wetgewende liggaam verkies te word onder die vaandel van: “Ons sal jou stem
wees,” en dan na die verkiesing tjoepstil te bly.

139

You might also like