You are on page 1of 43

DIE SONKAMER

Ontwerp Elana-Marié Snyman

Choreografie Anél Joubert

Musiek Antoni Schonken

Teks André Gerber

Regie André Gerber & Anél Joubert

Spelers [in alfabetiese volgorde] Susanne Beyers, Lida Botha, Neels Coetzee, Antoinette Kellermann,
Adriaan Havenga, Thandiswa Mrali

Tegniese Bystand/Produksie-assistent Marlo du Plessis

Almal word oud. Sommiges word onthou. Meeste word vergeet. In Huis Aristea bly daar egter ʼn
klein gemeenskap bejaardes wat hul stories wil deel. Dosyne onderhoude, briewe en opnames is in
hierdie eksperimentele verbatimteaterstuk saamgestel en neem jou op ʼn reis deur die lewe, liefde,
leef, en die ontnugterende wag op die dood. Kwesbare fisieke teater, ontwrigtende komposisies en
veteraan-akteurs bied ʼn eerlike blik op ons bejaardes wat vergete in die gange na die Sonkamer
dwaal.

Weergawe: 1 Maart 2020

1
DIE SONKAMER

is verbatimteater.

Die dialoog is saamgestel uit

briewe, joernale, boeke, onderhoude en gesprekke

met die inwoners van Huis Aristea in Durbanville.

Dit is hul regte woorde:

Wát hulle gesê het, hóé hulle dit gesê het.

DIE SONKAMER

word opgedra aan

die inwoners van

Huis Aristea.

2
Rolverdeling

in geen spesifieke volgorde

Antoinette Tannie Weideman Die hoofborg van die ouetehuis se bazaar.


Kellermann Frieda Hou by haarself. Die sogenaamde ongeskikte
dame in Llona se storie. Ons weet nie of sy
werklik só ongeskik is nie, maar sy word
uitgebeeld soos Llona haar vertel het.
Susan Sy bel haar kleinseun want hy bel haar maar min.
Sy is liefdevol.
Marguerite Baie ou vrou. Mens kry die indruk dat sy is ʼn paar
dae weg van die siekeboeg af. Sy probeer egter
nog hard om relevant te bly, hoewel sy nie
noodwendig meer fisies tot alles in staat is nie.
Ma Sy het Alzheimer. Sy gebruik ʼn boekie om dinge
neer te skryf wat deur haar dag gebeur sodat sy
dit kan onthou. (Hierdie toneel is saamgestel van
verskeie bronne.)
Neels Coetzee Meneer Geldenhuys Opsigter van die ouetehuis. Energieke man.
Humoristies. Het ʼn droë sin vir humor en ʼn
begrip van ironie. Ook ʼn bietjie van ʼn flirt.
André Anna se man. Sy vrou laat hom dink hy dra die
broek in die huis. Hy raak gefrustreerd met haar,
maar bly steeds vir haar baie lief.
Dawid le Roux Ella se man. Baie hardhorend. Hy is redelik
sieklik. ʼn Baie presiese persoonlikheid. Dra ʼn bril.
Kotie Kotze Hy het veelvuldige sklerose. Leef in die
siekeboeg. Kan nie meer beweeg nie. Wag elke
dag in hoop dat sy familie sal kom kuier.
Susanne Beyers Tannie Lisby Sy maak kaartjies vir mense om dankie te sê vir
hul hulp met die bazaar.
Llona ʼn Dame van Durban. Sy het baie ryk getou. Bly
nou in een van die mooier kamers in die
ouetehuis. Die enigste vrou met haar eie
platskermtelevisie. Sy beskou haarself as
nederig, maar ook hoogs benydenswaardig.
Anna André se vrou. Sy dink nie sy is baie geselserig
nie, maar sy is. Baie lief vir haar man.
Dogter Sy gaan kuier vir haar ma wat Alzheimer het. Sy
is baie lief vir haar ma, maar het ook haar eie
lewe. (Hierdie toneel is saamgestel van verskeie
bronne.)
Lida Botha Tannie Brechie ʼn Ouer dame met ʼn loopraam. Praat nie juis nie,
maar luister graag.
Marike du Preez Die lewe was moeilik met haar, maar sy bly sterk.
Ella le Roux Dawid se man. Bly in die siekeboeg met hom. Sy
is nog helderdenkend en redelik aan die gang.
Mens kry die indruk sy mis haar kinders, maar
maak die beste van die situasie. Swak oë.
Thandiswa Mrali Die Verpleegster Sy werk by die ouetehuis. Versorg die bejaardes

3
wat daar woon.

Waar daar nie noodwendig ʼn spesifieke karakter is nie, word die akteurs se name gebruik.

4
Indeks van tonele
Toneelnaam Karakter Akteur
Toneel 0: Die Stad Antoinette
Thandiswa
Toneel 1: Welkom Mnr. Geldenhuys Neels
Administrateur Adriaan
Dame 1 Antoinette
Dame 2 Susanne
Dame 3 Lida
Suster Thandiswa
Toneel 2: Die Eetsaal Llona Susanne
Frieda Antoinette
Mnr. Geldenhuys Neels
Oorgang: Mikrogolf
Toneel 3: Marike du Preez Marike du Preez Lida
Toneel 4: Telefoongesprek Antoinette
Toneel 5: Anna en André Anna Susanne
André Neels
Toneel 6: God se Apteek Antoinette
Neels
Susanne
Lida
Thandiswa
Adriaan
Toneel 7: Vat aan my magie Llona Susanne
Toneel 8: Begeerlikheid Antoinette
Toneel 9: Ella en Dawid Ella le Roux Lida
Dawid le Roux Neels
Toneel 10: Dit Bestaan Marguerite Antoinette
Suster Thandiswa
Toneel 11: Dobbelspel Antoinette
Neels
Susanne
Lida
Thandiswa
Adriaan
Oorgang: André Rieu
Toneel 12: Ek Weet Ek is Veilig Ma Antoinette
Dogter Susanne
Suster Thandiswa
Toneel 13: Anatomie Antoinette
Neels
Susanne
Lida
Thandiswa
Adriaan
Toneel 14: Die Son Kotie Kotze Neels

5
TONEEL 0
DIE STAD
[ʼn Verlore figuur wandel oor die verhoog. Die klanke van ʼn stad. ʼn Klavier speel.]
1. ANTOINETTE Ek het ʼn bietjie opleiding gehad as kind.
In my hoërskooldae het ek êrens syncopation geneem.
Ek is nie ʼn wonderlike pianis nie.
Ken jy iets van musiek af?
[Die klank van ʼn paar note op ʼn klavier.]
2. ANTOINETTE Ja, nee.
Ek haat al hierdie kruise en flats.
Ek speel drie flats,
twee flats,
C sal ek speel.
Maar F!
[Die klank van ʼn paar note op ʼn klavier.]
3. ANTOINETTE Dis my sleutel!
Ek kan lekker rol en harmonieer!
Ek harmoniseer graag.
Ek het nou agterkom
hier is van die dames wat ook kan harmoniseer
en ek het gedink ek gaan vir hulle vra
en dan begin ons ʼn koortjie of iets vir Kersfees.
Een van die tannies hier,
as sy by die gang afloop,
is geneig om te sing.
En ek harmoniseer met haar.
Musiek is een van my ankers.
[Die klank van ʼn paar note op ʼn klavier.]
4. ANTOINETTE Wat is daar nog wat ek vir jou kan vertel?

6
TONEEL 1
WELKOM
[Ons ontmoet die opsigter van die ouetehuis, MNR GELDENHUYS. Ons is in sy kantoor.]
5. GELDENHUYS Ek is baie opgewonde
en ek is seker die inwoners gaan ook wees.
Dis nou nie so ernstig nie,
maar ek wil nie hê hulle moet begin eet nie.
Kyk, ons sal in elk geval oor die mikrofoon praat,
maar die helfte van hulle hoor in elk geval
nie wat jy sê nie.
Dan terwyl jy nog praat,
vra die een antie vir die ander een,
‘wat sê hy!?’
[Hy lag.]
So dit raak partykeer nogal ʼn bietjie chaoties daarbinne.
As hulle eers begin eet,
gaan hulle niks meer hoor wat jy sê nie.
As daar kos by hulle monde ingaan,
slaan hulle ore toe.
So ons moet praat voor hulle eet.
6. GELDENHUYS Ons het onlangs ʼn bazaar gehad.
Amper soos ʼn kerkbazaar.
Dieselfde beginsel.
Van koeke tot hamburgers...
kerrie en rys en...
Kyk, hier is mense
wat hul hele lewe lank
in die Durbanville-omgewing was.
Van hulle was boere-mense.
So hulle het nog gelukkig kontakte
met mense in die dorp.
Byvoorbeeld,
hierdie tehuis is mos 42 jaar oud.
Die grond is deur die moedergemeente geskenk
en die dominee wat dit daai tyd inisieer het –
ek het nog die notule van die eerste kerksraadvergadering
waar dit goedgekeur is –
nou sy vrou,
tannie Weideman,
bly nog hier in ons ouetehuis.
En haar dogter is Juanita Louw
van Diemersdal.
So helfte van ons bazaar
is eintlik maar Diemersdal.
Ek sê altyd,
‘ons moet die tannie mooi preserveer
want terwyl sy lewe kom helfte van die geld van Diemersdal.
Ons verwag hierdie jaar om R130 000 te maak.
Ek hoor een van die plaaslike gemeentes –
en hulle is ʼn groot gemeente –

7
hulle hoop op so ʼn netto van R50 000.
Dis ons hoogtepunt van die jaar.
Jy kan nou dink,
vir dié mense is dit ʼn groot party.
Ons begin ses maande voor die bazaar
pannekoek verkoop vir fondsinsameling.
Kom ons stap hier af.
[Ons loop deur die gange van die ouetehuis. Die ander akteurs kom op die verhoog.]
7. GELDENHUYS Ek is baie opgewonde.
Ek is seker die inwoners gaan ook wees.
Jy gaan my weer e-pos met die datums en tye?
Ek het gedink hulle moet vir my maar name gee, jy weet.
En dan gaan klop jy sommer net aan die deur.
Dis die perms wat jy nou ruik.
Dis vandag hare-dag.
Hierdie tannies se koppe word nog stewig geperm.
8. WEIDEMAN Hoe gaan dit met jou, Cedrick?
9. GELDENHUYS O, dis nou tannie Weideman van wie ek jou vroeër vertel het.
Dis Lisby. Sy was al die jare ʼn boer se vrou. Sy doen die vleis vir ons.
[Aan ONDERHOUDVOERDER:] Ek’s nou by jou. Staan gou vas.
[Aan TANNIE LISBY:] Sê my net hoeveel wil jy hê?
10. LISBY Seker so twaalf.
11. GELDENHUYS Ek gaan in jou posbus sit.
Ek het dit klaar getik.
Dis maar soortgelyk aan laasjaar sʼn.
12. LISBY Ja, dis eintlik maar net om vir die mense dankie te sê. Ek voel net ek wil
dit persoonlik doen.
13. GELDENHUYS Goeie middag! Middag, almal.
[Aan TANNIE BRECHIE] Hoe gaan dit met jou, tannie Brechie?
14. BRECHIE [Sy is in ʼn loper. Stilte. Na ʼn oomblik, knik sy net stadig.]
15. GELDENHUYS Ek is bly.
Dan lyk jou gesondheid beter as myne.

8
TONEEL 2
DIE EETSAAL
[Ons is in die eetsaal.]
16. LLONA Ons is mos ingedeel in tafels.
Jy sit waar jy sit.
Jy mag nie skuif nie.
Nee, nee, nee, nee.
Hulle deel jou in.
En dié persoon vra toe vir my:
17. FRIEDA Is jou saak al afgehandel?
18. LLONA Ek sê toe,
‘nee, dit sal so-en-so tydperk hopelik wees,
maar ek is nog nie seker nie.’
En ek dag,
Ok...?
Dis altyd so stil aan die tafel.
En soos jý nou doen, dog ek toe
ek gaan bietjie vir haar uitvra.
‘Hoe lank bly jy nou al hier?’
Waarop sy toe nou antwoord:
19. FRIEDA Tien jaar.
20. LLONA En ek wil haar vertel...
‘Ek is so gelukkig om so gou hier te land.
My kind het alles gereël in ʼn dag
en ek was van Holland af na drie maande in die Kaap.
Klaar gereël.
Als.
Wat vir my ʼn getuienis is.
As Christen kan ek getuig die Here het my gehelp.’
21. FRIEDA Ek stel nie belang nie.
22. LLONA My hele gesig val.
Ek dog...
Ok?
Nou bly ek stil.
Nou wonder ek wat gaan aan?
Wat moet ek nou doen?
Ok...(?)
Ek bly kalm.
Ek val nie aan nie.
Maar nou is jy die aand by jouself en nou dink jy...
nou dink jy...
en ek dog...
Ok, more gaan ek haar net vertel.
En ek kom by die tafel.
Ek sê vir haar,
‘Luister hierso...
jý is jaloers op my.’
O, ek moes dit nooit gesê het nie.
Ek was so spyt.

9
Ek weet nie eens of jy dit in die kamera moet hou nie.
Netnou hardloop sy na meneer Geldenhuys toe.
‘Jy wil nie hê ek moet met jou praat nie want jy is jaloers op my.’
Daar’s alles toe nou oor.
Nou is dit spanning!
Sy kyk my net so aan.
Kyk my net aan.
En ek kan nie uitfigure wat gaan aan nie?!
En ek dog, maar wat?
23. FRIEDA Ek hou nie van die manier waarop jy praat nie.
24. LLONA Ek is nogal geneig om aan te gaan.
Ek probeer my hande stilhou.
Maar ek word KWAAD die aand.
En ek gaan toe na meneer Geldenhuys toe
Ek sê vir hom,
‘Luister, meneer,
ek sien nie kans om in spanning te sit en eet nie.
Jy vat my weg van daai tafel.
Ek wil op ʼn ander plek sit.’
25. GELDENHUYS Nee, ek sal die dame konfronteer.
26. LLONA Wat hy toe ook gedoen het.
Maar hy kom toe terug na my toe,
en ongelukkig sê die bestuur van die kombuis
ek kan dit nie doen nie.
Daar is geen ander plek nie.
Die tafels is vol!
Ek moet sit waar ek sit.
27. GELDENHUYS Ek kan nie net mense rondskuif nie.
28. LLONA Maar weet jy,
ʼn wonderwerk het gebeur.
Toe my kind vir my sê,
‘mamma, gee net vir haar liefde.’
Ek dog toe,
‘ek weet nie hoe nie!’
Ek begin toe maar net stilbly by die tafel.
Maar nou praat ons ʼn hond uit ʼn bos uit!
Ek kan dit nie glo nie!
Sy sê:
29. FRIEDA Ek sal jou nog eendag saamvat…
30. LLONA Ek kan nie glo nie...
Sy wil my saamvat êrens heen!
Ek weet nie waarheen nie.
Sy sal my nog eendag soontoe vat.
Dis oor en dis verby,
maar dit was ook vir my ʼn gebedsaak.
Ek moes nie vir haar gesê het wat ek gesê het nie.
Dit was nie mooi nie.
Maar dis nou verby.
Dis in die verlede.

10
OORGANG
MIKROGOLF 1
[NEELS loop na die mikrogolf en die verhoog draai.]

11
TONEEL 3
MARIKE DU PREEZ
31. MARIKE Ek hou my baie besig by die ouetehuis.
Ek het byvoorbeeld hier onder by The Stage
vir ʼn jaar lank ʼn drama-kursus gedoen.
Ek was selfs deel van die Kleinmond amateur-dramavereniging.
Ons eerste produksie was Die Proponentjie.
Ek het die bediende gespeel.
Toe Die Kongres.
Daar het ek weer die bediende gespeel!
Lyk my dis een ding waarin ek goed is!
Ons het van die bruin mense op die dorp genader om te speel,
maar hulle was te skaam.
Hulle wou nie saam met ons speel nie.
[Gedagteoorgang.]
32. MARIKE Ek is eintlik nie so lus om oor my lewe te praat nie,
maar ek steek niks weg nie.
Kyk, ons het twee dogters...
Mense sê dit graag van hul kinders,
maar albei van hulle is briljant.
Hulle is so geklassifiseer.
Die oudste dogter...
ek kan seker maar haar naam sê?
Liezl.
Sy het voedseldiensbestuur studeer.
Hulle praat altyd van ‘die meisietjie in die kombuis.’
Dis die bestuurder van ʼn hospitaal se kombuis.
Of in ʼn aftree-oord.
Soos dié een.
[Gedagteoorgang.]
33. MARIKE Ons jongste dogter...
Haar naam is Ronél.
Sy was net so rebels soos ek.
Baie rebels.
Sy sou Regte gaan studeer het.
Sy het met ʼn baie oulike outjie uitgegaan
en hy het Regte geswot.
En kyk, terwyl sy met hom was,
was sy die voorbeeldigste kind op aarde.
Dit het ook later tot niet gegaan.
Sy het weggeloop uit te huis uit
en haar studies opgeskop.
Uiteindelik het sy in ʼn kommune gaan bly.
[Gedagteoorgang.]
34. MARIKE Ek en Liezl het altyd ʼn vreeslike close verhouding gehad.
Ek het nooit enigiets agter gekom nie.
In haar tweedejaar het sy afgekom Kaap toe
vir so ʼn opvoedkundige toer.
Hulle was in Malmesbury vir Bokomo.

12
Toe sy terugkom,
toe kom ek agter sy’s nie meer dieselfde nie.
Ek sê, ‘Liezl,
hoekom lyk dit vir my jy is besig
om ʼn pad te stap waarvan jy nie kan omdraai nie?’
Sy’t niks gesê nie.
Ek sê toe, ‘is jy...gay?’
Sy’t net haar kop so geknik.
Dit was vir my verskriklik.
Ek kon dit nie glo dat hierdie kind...
Ek het haar omtrent afgebid van die Here!
Ons was al vier jaar getroud.
My man was al 32 en ek 29.
Nou ja, nou’s dit niks nie,
maar in daai jare was dit oud!
Dit was ʼn verskriklike skok vir my.
Ek kon nie my man vertel nie.
Toe ek hom vertel, toe’t hy heel eerste gesê:
‘Ons moet ʼn afspraak by die predikant maak.’
Ons het predikant toe gegaan en die predikant sit so met sy hande,
‘ja, sy sal hel toe gaan!’
‘Dit is ʼn sonde en daar is nie plek in die Hemel vir hierdie mense nie!’
Die hele Sodom en Gomorra storie.
Ons moet haar terugkry van dié pad af.
Ek kan nie vir jou sê wat deur my kop gegaan het nie.
Ek kon nie glo dat my kind gay is nie!
ʼn Homoseksueel!
Ja, ek het al met homoseksuele mense gewerk.
Ek het nooit iemand veroordeel nie.
Maar dit húlle!
Dis nie my kind nie.
As dit hier teen jou lyf kom,
is dit vir jou baie anderster.
Ek meen, dit was 1992.
Dit was nie maklik nie.
Sy het gay verhoudings gehad.
Dit is vir ouers natuurlik die heel moeilikste –
as jou kind gay is,
kom jy by ʼn plek van semi-aanvaarding
en dan bring hulle ʼn vriend huis toe.
Dan is jy van voor af –
van voor af –
weer onderstebo.
Maar al meer en meer wou sy...
ons het haar aanvaar,
maar jy weet,
jy weet
daar is ʼn groot verskil tussen aanvaar
en 100% aanvaar.
Jy moet jou kind aanvaar:
dit beteken jy moet ook sy vriende aanvaar

13
en... alles wat daarmee saamgaan.
[Gedagteoorgang.]
35. MARIKE Die jongste enetjie...
Ronél
Sy’t weer by ons ingetrek.
Toe kom ʼn man wat by die Akwarium in die Kaap gewerk het, soontoe.
Ek verstaan nie altyd hierdie mense met hul sabbaticals nie.
Hy was toe moeg en het ʼn huisie gehuur teen die berg.
Hulle twee het mekaar ontmoet.
Sy’t natuurlik dadelik verlief geraak op hom.
Hy trek toe saam met haar by die woonstel in.
Hy het reg van die begin af gesê,
‘ek gaan nie met jou trou nie.
Ek is nie lief vir jou nie.
Ons is vriende.’
Eendag...
Kom hulle by die huis.
Ek sit in die kombuis
en ek kon sien hoe hulle stilhou.
Maar hulle gaan by die woonstel in.
Nie lank nie, toe kom Ronél by die agterdeur in.
Hulle wil nou met ons praat.
Sy sê toe...
sy is swanger.
...
Vir my was dit die wonderlikste nuus wat ek kon hoor.
Terwyl sy nog op Hoërskool was,
het sy vreeslik baie probleme gehad.
ʼn Ginekoloog het vir ons gesê
sy het 1% kans om ooit swanger te word.
En hier kom dit só, jy weet?
Ek sê altyd:
and then came the man with the golden banana.
[Lag.]
Ek is verskriklik bly.
My man sit daar...
Hy sê,
‘daar ís iets soos ʼn aborsie.’
Ek is geskok.
‘Jy kan mos nie so iets sê nie?!
Dis ons enigste kans tot ʼn kleinkind!’
Maar natuurlik het hulle dit opgeneem soos hulle wil.
Nietemin.
Hulle is toe daar uit by ons.
Die kleintjie is toe in Caledon gebore.
Die pragtigste seuntjie!
Ja, alle oumas se dit van hulle kleinkinders,
maar hy is werklik baie mooi.
[Gedagteoorgang.]
36. MARIKE Nietemin.

14
My man is in 2007 vir ʼn hartomlyningsoperasie.
Ja, ek… moet nou net kyk dat
ek nie deurmekaar raak met my datums en tye nie.
In April van 2007, dink ek… ja.
My suster vir ʼn rukkie daar by ons kom bly.
My man het haar genooi.
Ons weet nie hoekom nie, maar
Hy het net ongeskik geraak.
En so later is dit die een woord op die ander een
en hy skel my verskriklik uit.
My suster begin huil.
Toe sê sy,
‘sy is nie dit gewoond nie.’
Sy dink net,
‘wat sal my ma gesê het as sy dit moes sien.’
En hy gaan aan met my.
Hy skel my.
Hy sê,
‘as ek daai suster van jou nooit weer sien nie,
sal dit te gou wees.’
Later...
Ek moes aan my tande laat werk.
Ek gaan toe sommer na my man se oudste broer.
Hy sê,
‘vandat jy die tydskrifte rondlê,’
Daar was ʼn artikel oor my boek in die Huisgenoot.
en ‘jy’t slegte kinders!
Jou kinders is net so sleg soos jy!’
en ek weet nie wat alles nie.
Dis oor Ronél swanger geraak het.
Hy sê, ‘daai hotnotskleinkind van jou.’
Maar kyk,
die man met wie sy is...
Hy mag dalk ook ʼn bietjie kleurling wees,
maar dit sal my nie pla as hy is nie.
Maar hy’t vir my gesê hy kan my wys hy’s ʼn blanke.
Toe ek by die huis kom...
Maar ek stap [met mening].
Ek sê vir my man,
‘die dag toe ek met julle klomp du Preez’s deurmekaar geraak het,
moes ek my kop laat lees het.’
‘Ja, nee, maar wat is nou verkeerd?’
Ek sê,
dit het jou broer vir my gesê en hy kon net by jou so iets gehoor het.
En hy begin weer met my te baklei en aan te gaan.
Daar was so ʼn klein, kort gangetjie in die huis...
Die hoofslaapkamer was hier die badkamer daar.
Hy het my daar in ʼn hoek vasgedruk
en my amper gewurg.
Hy het my om die nek gegryp.
Hy het my vasgedruk.

15
Hy sê,
‘vir jou vermoor ek!’
Ek het net so in die hoekie afgesak.
En kyk hom net só aan en ek dink,
ek ken nie meer hierdie man met wie toe ook seker al...
einde verlede jaar...
nege-en-veertig jaar getroud is...
toe was dit was dit seker nege-en-dertig jaar.
Ek gaan kuier nog vir hom twee maal ʼn week.
Hy bly nou in die siekeboeg.
Hier is van die ander vrouens
wat elke dag by hulle mans gaan sit.
Dit het vir my geen doel nie.
Hy’t nie meer rasionele denke nie.
Hy kan goed [dinge] onthou as ek met hom praat daaroor,
maar daar’s nie gesprekke nie.
As sy basiese behoeftes vervul word, is hy happy.
En ek voel ek het ook ʼn lewe.

16
TONEEL 4
TELEFOONGESPREK
[SUSAN is op die foon met haar kleinkind.]
37. SUSAN Ag nee, ons karring maar voort.
Ek het amper gedink jy leef nie meer nie!
Ek en oupa speel bietjie Rummikub.
Wag vir die kostrollie om verby te kom.
Ons het sommer ‘n ontbyt gaan eet
by die Pick’n’Pay sentrum
so oupa was nie vanoggend in die eetsaal nie.
Dis die plekkie… Bean-something.
Dis langsaan die Pick’n’Pay.
Dit was net R60.
Dit was ‘n groot ete.
Nou wag ons vir die trollie.
Het jy al iets gehoor van die werk?
Moet ek vir jou bietjie geld oorbetaal?
Ek gee nie om nie.
Is jy seker?
Het julle al begin met julle toneelstuk?
Ken almal hulle woorde?
Oupa stuur ook liefde. Hy sê hallo.
En moenie so skaars wees nie!
Jy kan maar gerus bietjie bel, nè?
O, hier’s die trollie nou.

17
TONEEL 5
ANNA EN ANDRÉ
[Ons is in ANNA en ANDRÉ se woonstel. ANNA is in die agtergrond, besig om te brei.]
38. ANDRÉ Ek sou sê ek is ʼn redelike kreatiewe mens. Nou nie om te spog nie,
maar ek skrywe. Ek skilder. Ek sing. En my grootste begeerte wat ek in
my hele lewe gehad het, was om ʼn operasanger te word. En tot vandag
toe nog – as ek vandag die geleentheid kan kry… wel, nou’s ek te oud.
Ek sal seker net tot die tweede noot kom, dan dood ek. [Lag.] Wel, ek
sou dit vandag nog wou gedoen het. Daar was net nie die geleenthede
nie. Dit is nou maar drome wat jy koester, maar nou kan jy niks
daarmee maak nie. Nou op jou oudag het jy miskien die geleentheid of
die vermoë om dit te doen, maar wat gaan dit help? Dis maar hoe dit
gaan.
39. ANNA [Van agter af:] Kan ek ʼn koffie opsit?
40. ANDRÉ Jy kan mos sien die kamera is klaar aan! Nou moet hy van voor af
begin.
41. ANNA Hy kan dit net uithaal.
42. ANDRÉ Netnou kom dit in die toneelstuk? Dan praat ek nou oor iets
interessants en jy kom met die koffie. Die mense wil nie hoor van koffie
nie.
43. ANNA Jy weet nie waaroor die toneelstuk gaan nie. Antoinette Kellermann
drink ook koffie.
44. ANDRÉ Moet jy weer die knoppie druk?
[Nee, oom.]
45. ANDRÉ O. Waar was ek? O, ek onthou ek het ʼn juffrou gehad. Juffrou
Hanekom. Toe ek in sub A was – die eerste dag wat ons in die skool
gekom het, kry ons klei om mee te speel. Ek onthou te goed – tot
vandag – ek het ʼn mandjie gemaak met vruggies nou-kamma in en sy
het vir my gesê dit is die mooiste ding wat iemand al ooit met klei
gemaak het.
46. ANNA [Van agter af:] Ek het twee onderwysers op Springbok gehad – Mnr
Kotze. Dis eintlik snaaks want daar was ook ʼn D.A. Kotze – die
skoolhoof – en die ander een was die onderwyser. Hy was kleiner, so
ons het hom genoem Klein-Kotze. Hy en Juffrou Bester was daai tyd
daar. O, ek het haar so bewonder want sy’t die mooiste klere gehad.
Bruin getan.
47. ANDRÉ Hy is besig om met my ʼn onderhoud te voer. Ons gaan vir ewig hier sit
as jy die heeltyd gaan praat.
48. ANNA Nee, jy kan nie so lank sit nie. Dis Donderdag. [Aan
ONDERHOUDVOERDER:] Ons sien ons kleinkind vandag. Hy is agtien
maande oud. Ag, hy is ouma en oupa se lewe. Ons dogter bly gelukkig
naby. Hy het by ons gebly tot hy na die bewaarskooltjie toe kon gaan.
En hy kom nog Donderdae na ons. Ons leef vir Donderdag!
49. ANDRÉ As jy eerder wil praat, dan moet jy kom sit.
50. ANNA Nee, ek kan niks meer onthou nie. [Aan ONDERHOUDVOERDER:] Ek is
nie so interessant nie. [Sy gaan sit.]
51. ANDRÉ Nee, jy gaan nou die prentjie spoil. Nou moet hy eers die kamera skuif.

18
Gaan jy haar kan hoor as sy nie ʼn mikrofoon het nie?
[Ja, oom.]
52. ANNA Kan jy my hoor? My doopnaam is Anna, maar ek het ʼn bynaam van
Kokkie. Toe ons op die plaas gebly het, het ek vreeslik graag in die veld
geloop. Dan hoor my ma hoe sing ek, ‘kokkie-kokkie-ga. Kokkie-kokkie-
ga.’ Maar ek was ʼn klein dogtertjie gewees. Ons was op ʼn plaas naby
Kammieskroon. Ek sal nie sê dit was vir my so lekker daar nie. In daai
tyd was daar geklassifiseer tussen die ryk en arm mense. Ongelukkig
het ek onder die armer mense geval. Andre-hulle is byvoorbeeld ʼn
ander tipe kind gewees. Hulle was vrolik, opgeruimde kinders. Hulle
was gelukkig gewees. Ek het ʼn wonderlike huis gehad waarin ek
grootgeword het, maar ek is nie die tipe persoon... ek kon dit nie
hanteer dat ek arm was nie. Dit was vir my moeilik. En het net besluit
ek gaan uitstyg by my omstandighede.
53. ANDRÉ Ek het nou weer gedink jy móét arm wees. [Hy lag.]
54. ANNA Ja, maar julle was ʼn baie vrolike gesin. Ek het een keer met sy suster
gepraat, en sy het gesê, ‘weet jy, dit het nooit vir ons gepla dat ons nie
ryk is nie.’ Dit het my nou weer gepla. Ek wou net so graag gewees het
soos die ander kinders was.
55. ANDRÉ Ja, ek onthou nog die –
56. ANNA En dan ook! Daar was baie kinders wat ook arm was, maar jy’t gedink
dis net jy.
57. ANDRÉ Ja, so ek onthou nog hoe –
58. ANNA O ja! En dan vra die kinders in die koshuis... Almal wil saam met my
huis toe gaan, maar dan sê ek, ‘nee, nee, julle kan nie!’ want dis
natuurlik die armoede.
59. ANDRÉ Ja, ek onthou nog die grootse ding wat jy kon beleef was toe ons
skoene gekry het vir die eerste keer. Ek dink ek was seker toe al
standerd vier of vyf.
60. ANNA Vertel hom van jou take.
61. ANDRÉ Wat nou?
62. ANNA Die Brasso.
63. ANDRÉ O, ja, dis die ander ding: ons het elkeen take gehad by die huis.
64. ANNA Saterdagoggende. Hulle was drie seuns.
65. ANDRÉ Die ene moes – soos ons maar gesê het – die werf gevee. \ Hy’t ʼn
besem gekry.
66. ANNA Hy moet rondom die huis vee.
67. ANDRÉ Die ene moes gaan mis optel – beesmis optel –
68. ANNA Hulle moes mis op die vloere smeer. Die ander een moes die Brasso
gevat het en moes alles – die primus, die deurknoppe en die boiler wat
aan die stoof is – skoongemaak het.
69. ANDRÉ Ek dog ek moet die storie vertel?
70. ANNA Jy doen mos nou. Ek sit net hier.
71. ANDRÉ My ma het gesê, ‘my kind, jy moet kan enige ding doen. As jy more
moet kosmaak, moet jy kan kosmaak. As jy ʼn knoop moet aanwerk,
moet jy ʼn knoop kan aanwerk.’ Ons moes alles om die huis doen –
skottelgoed was, wasgoed was, stryk. Alles! Kinders vandag kan dit nie

19
meer doen nie!
72. ANNA My beste plek om te sit om naaldwerk te doen, was op die bed! En
meer as een keer het daar ʼn naald in my pa se boud beland. [Sy lag.]
Dan sê hy vir my ma, ‘jong, die meisiekind het mos weer op die bed
gesit en naai!’ Dan skel ma, ‘jy moet darem maar nou nie... sorg maar
net dat jy al jou speldjies en naalde optel.’
73. ANDRÉ Ja, dit laat my nou dink –
74. ANNA En in standerd agt, het ek begin om vir my suster klere te maak.
Eenvoudige rokkies. Tentrokkies. Maar dit was so lekker! Dan vat ek
van my ma se ou klere en maak vir my suster tentrokkies.
75. ANDRÉ Vertel hom van –
76. ANNA My groot droom was om ʼn mode-ontwerper te word. My pa het net
gesê, ‘my kind, ek sal dit nie kan bekostig nie. Ek kan nie my plaas as
sekuriteit gee vir jou om te gaan studeer nie.’ Dit was ʼn geweldige
teleurstelling. Jou talent en jou droom \ gaan nie bewaarheid word.
77. ANDRÉ Ek dink hy wil koffie hê. Wil jy nie koffie gaan maak nie?
78. ANNA O, ja! Jammer, mens se kop is so vol. Hoor hier, ons is besig, besig,
besig. Noudat die bazaar verby is, moet ek nou al begin werk aan
volgende jaar se bazaar. Ek moet goedjies maak daarvoor. Klere. En
dan het mens nog die algemene goedjies wat mens deur die huis moet
doen. Besig. Besig. Iemand sê nou die dag, hulle moet afsprake maak
om ons te kom sien! Só besig is ons. Ons hou ons besig met al wat ʼn
dingetjie is. Never a dull moment!
79. ANDRÉ Wil jy hoor hoe ons ontmoet het?
80. ANNA O, ja! Daai stuk wil ék vertel! Ek was in die koshuis op Springbok, nè!
81. ANDRÉ ...En ek werk in die –
82. ANNA En hy werk in die poskantoor en ek in ʼn ander meisie moes saans die
pos gaan haal het. En toe ons daar kom... Dan gaan ons nou... En later
het hy begin dink, ‘die meisie is darem nou vir my oulik’ en dan vat hy
my hand deur die posbussie. En ek weet mos nie wie dit is nie, maar
toe kom ek later agter wie dit is. En daai tyd moes ons in rye kerk toe
stap. Mooi netjies in rye. Kyk, in daai tyd was dit nog streng gewees.
Dan staan hy op die stoep waar ons verbystap...
83. ANDRÉ Waar ek gebly het...
84. ANNA ...en dan’t hy gewaai. En nou waai jy terug, maar jy moet so onderlangs
waai want jy mag mos nou nie al hierdie dinge...
85. ANDRÉ ...Uithaak nie.
86. ANNA ...Uithaak nie. Dan’t jy nou so half-effentjies gewaai. En toe ek nou
klaar is met skool, toe’t ons begin uitgaan. Ek het by die Springbok-
fotograaf gewerk. Kinders van vandag...
87. ANDRÉ Ja, vandag se kinders.
88. ANNA Ja, ek sou sê – ekskuus André – daai aspek van respek vir jou ouers...
89. ANDRÉ ...en medemens...
90. ANNA Ons moes ons ouers respekteer. Jy het nie vir jou pa gesê ‘jy moet’...
91. ANDRÉ Of ‘ag ma’ of ‘ag pa’ nie.
92. ANNA Ja. Jy’t gesê, ‘pa, pa moet asseblief vir my dit doen.’ Ja, dis seker bietjie
erg om die pa te herhaal, maar deesdae hoor jy sommer, ‘pa, jy moet

20
vir my dit gee.’ Die respek van daai tyd het weggeval...
93. ANDRÉ Die ander ding is...
94. ANNA Hulle sal darem sê ‘oom’ en ‘tannie.’ Ek hou daarvan as die kinders hier
oorkant by die skool uitkom, en vir my sê, ‘middag tannie.’ Dit voel vir
my hulle het respek vir die tannie.
95. ANDRÉ Ja, ons het byvoorbeeld geglo dat as jy dokter toe gaan, dan trek jy jou
kerkklere aan. Nou nog – as ek dokter toe gaan – trek ek myself skoon
en netjies aan want...
96. ANNA Ja, jy’t respek vir die persoon. Dis ʼn dokter. Jy moet jou netjies aantrek.
97. ANDRÉ Ai, ons was seker nou so boring gewees. Die akteurs gaan dink ons is
maar simpel.
98. ANNA André.
99. ANDRÉ Nee, dit fassineer my. Die mense wat toneelspeel. Hoe hulle daai tekste
uit hul koppe uit geleer kry! Dít kan ek nie verstaan nie. Hoe kry hulle
dit reg?
100. ANNA Ja, dis lang stukke wat hulle moet leer.
101. ANDRÉ Jy kan nie nou as jy op ʼn verhoog staan om in ʼn toneelstuk te speel – jy
kan nie nou op ʼn boek kyk nie. Jy moet... Ok, as daar nou twee of drie
mense is, dan weet jy as dié een so sê, dan gee hy amper vir jou die
volgende sin aan.
102. ANNA [Aan ONDERHOUDVOEDER:] Jy sal nou weet. Veral die ouer spelers. Jy
raak mos nou bietjie... bietjie dowwer as jy ouer word. [Sy lag.]
103. ANDRÉ Ek onthou nie eens wat gister was nie. Hoe sal ek nou teks onthou!?
[ʼn Horlosie slaan.]
104. ANNA O, André, praat ons nou so lekker. Jy moet jou regkry.
105. ANDRÉ Net vir interessantheid, daai horlosie loop nou... 1914... Dis ʼn 103 jaar.
106. ANNA Dis sy oupa se horlosie.
107. ANDRÉ Hy kom nog van die plaas af.
108. ANNA Mens kan amper nie glo dat hy nog werk nie.
109. ANDRÉ Baie dae is hy maar soos ek, dan wil hy ook nie werk nie, dan gaan stop
hy ook maar.
110. ANNA Ek verstaan jou darem nou al.
111. ANDRÉ Jy doen.
112. ANNA Kom, dis Donderdag. Ons moet regmaak.
113. ANDRÉ Wat gebeur Donderdag? Wat het geword van die koffie?

21
TONEEL 6
GOD SE APTEEK
[Al die akteurs voor op die verhoog. ʼn Tipe paneelbespreking. ʼn Klein nota oor hierdie toneel: Dit is
saamgestel uit onderhoude, gesprekke en ander bronne, insluitende die boek God se Apteek (dele
1 en 2) wat baie van dié inwoners as ʼn belangrike dokument beskou.]
[Bloedgroepe]
114. ANTOINETTE Die eerste en belangrikste van alles:
vind dadelik uit wat jou bloedgroep is.

Die O-groepe kan rooivleis sonder vet, kalkoen, hoender of vis eet
soveel as wat jy wil. Luister net na jou eie liggaam. Hy bly jou beste
dokter.

Die A’s kan seekosse 3-4 maal per week eet. As jy ʼn A-vrou is wat ʼn
geskiedenis het van borskanker in jou familie, oorweeg dit gerus om
slakke in jou dieet te bring.

Die B-groepe moet versigtig wees vir hoenders. Jou lyf bly maar jou
beste dokter.

Die AB-groep is ʼn kombinasie. Vermy: Ham, Bees, Buffel, Hoender,


Eend, Gans, Patrys, Vark, Wild, barakuda, Krap, Kreef, Paling, Skelvis,
Oesters, Garnale, Gerookte Salm, Bloukaas, Botter, Karringmelk,
Roomys, Sorbet, Koringolie, sonneblomolie, sesamolie, koringmuffins,
Koringbrood, Avokadopeer, Rissie, Swart olywe, suikermielies, piesang,
klapper, koejawel, mango, granate, turksvye, rabarber, stervrug,
aalwyn, hops, anys, amandels, gelatien, Barley, All Spice. Baie goed vir
jou: groentee, rooibostee en gemmertee.
[Velswamme]
115. NEELS Weet iemand dalk wat my vingers makeer? Dit vervel.
116. LIDA Dit kan ʼn swam wees. Beste is dokter toe.
117. SUSANNE As my seun aan calamari raak, dan lyk sy hande só.

[Bloedsirkulasie]
118. LIDA Wat help vir sirkulasie in bene?
119. ANTOINETTE Skryf met jou voete die alfabet.
[Oormatige sweet]
120. SUSANNE Ek het presies dieselfde probleem al vir donkiejare. Die ergste is die
sweet in jou gesig. Ek het ʼn vol histerektomie gehad op 28. Helfte van
my skildklier is verwyder en ek is op hormoonpille. Maar sweet, sweet
ek vir die eerstespan.
121. ANTOINETTE Ai, dis vreeslik! Ek is so skaam as ek winkels toe gaan, want almal kyk
jou aan.
122. LIDA Ek het presies dieselfde probleem as jy. Dis baie embarassing.
123. SUSANNE Dit is, ja. Mens kan nie eens meer make-up dra nie. As iemand jou sien,
dan sê hulle, ‘jis, dis warm vandag!’
[Gebarste hakke]

22
124. LIDA Ek sukkel nog altyd met my hakke want ek loop kaalvoet. Ek doen
weekliks asyn- en Listerine-mengsel en dit doen wonders!
125. SUSANNE Skuur jy ook?
126. LIDA Ek skuur ná die soak van 15 minute in louwarm water.
127. NEELS Listerine-mondspoel?
[Valstande]
128. SUSANNE Met wat kan ek my valstande skuur? Dit druk in my vleis in. Ek het dit al
teruggevat, maar dit help nie. Word niks daaraan gedoen nie!
129. NEELS Vandag se tandarts is nie soos die ou dae nie.
130. SUSANNE Ja, en dan is dit nog ook so dik, daar is nie plek in ʼn mens se mond vir
jou tong nie.
[Aambeie]
131. LIDA En Aambeie?
132. SUSANNE Roosmarynolie aangesmeer, help.
133. NEELS Eet rou ertjies gereeld. Rou spinasie help verseker.
134. SUSANNE Appels is ook goed vir aambeie.
135. ANTOINETTE Timjan (aalwynsap) help definitief, behalwe vir die O-bloedgroepe.
136. NEELS Sny ʼn rooi patat in die vorm van ʼn potlood en druk dit in die anus op.
Dit sal help.
[Chroniese Moegheid]
137. ANTOINETTE Begin jou dag met baie water. Vyf tot ses glase met ʼn bietjie
suurlemoensap daarby.
Doen ʼn sweetoefening drie maal ʼn week.
Eet volgens jou bloedgroep. Google Bloedgroepe.
[Haarverlies]
138. SUSANNE Glo dit of nie, ʼn fantastiese haargroeimiddel asook ʼn multivitamien is
Bob Martin hondepille! Dit werk! Dit versterk ook jou immuunstelsel en
beenstruktuur.
[Hoë cholesterol]
139. LIDA Ek het ʼn truuk vir cholesterol: Kry vir jou ʼn kruiwa vol growwe grys
klippies in jou agterplaas. Loop kaalvoet heen en weer oor dié
klipperkies vir tien minute. Jy sal verbaas wees hoe goed jy voel!
[Ouderdomsvlekke]
140. ANTOINETTE ½ Teelepel borrie soggens en smiddae.
141. SUSANNE Vir wat?
142. ANTOINETTE Ouderdomsvlekke.
Suurlemoensappie elke dag met baie water.
ʼn Natuurlike bleikmiddel: heuning en ongegeurde jogurt.
143. ALMAL Oe!
[Slegte Asem]
144. LIDA ʼn Slegte, bedompige asem word meestal veroorsaak deur slegte
spysvertering of swak mond- en tandhigiëne.
[Wurms]
145. NEELS Die beste raad teen lintwurms en ander wurms is pampoenpitte oornag
in brandewyn geweek.

23
[Aarontsteking]
146. LIDA Een van die oorsake van aarontsteking is: jy druk te veel vetterige kosse
deur jou nek.

[Galstene]
147. ANTOINETTE Vrouens kry meer galstene as mans. Nadoodse ondersoek het bewys
dat gemiddeld 20% van alle vrouens galstene het wanneer hulle
doodgaan.
Eet 2 na 3 vars radyse elke oggend vroeg voor ontbyt en saans voor jy
gaan slaap.
[Hartkrampe]
148. LIDA Verkeerd eet is een van die grootste oorsake. Jy is wat jy eet, en jy is
wat jy nie eet nie.
[Rustelose Bene]
149. NEELS Wat van rustelose bene?
150. SUSANNE Vul jou sinkvlakke aan met gemmerwortel. ʼn Handjievol pampoenpitte
gaan jou sinkvlakke ook lig. Dit lig egter ook die manne se spermtelling.
151. ANTOINETTE Bovril werk vinnig.
152. LIDA Kankerbossietee.
153. SUSANNE Slaap met ʼn aartappel in jou bed. Vervang die aartappel gereeld. Moet
nie die aartappel eet nie.
154. ANTOINETTE Die aartappel werk vir my.

24
TONEEL 7
VAT AAN MY MAGIE
[Ons is in LLONA se kamer.]
155. LLONA Die een middag sit ek hier.
Ek sit altyd briefies op my deur.
En ek het prentjies van ogies wat slaap.
Of ek sê,
‘welkom, kom in!’
Of as ek gaan stort,
sit ek ʼn stort-briefie op my deur.
Verlede week.
Ek lê.
My rusbriefie is op die deur reg.
En hier klop iemand HARD.
Ek gil, ‘WIE’S DIT?.’
“Tertius.”
Toe’s dit [mnr. Geldenhuys] die bestuurder.
Hy kom in en wys vir my sy honde.
Ek wil só graag ʼn ou hondjie hê.
Hy sê,
‘nee, hy sal die honde bring eendag.’
Hier kom verras hy my met die honde!
Haai,
weet jy,
ek glo nie hy was twee minute hier nie.
Dit het my dag gemaak.
Maar...
toe’t van die mense gesien
meneer Geldenhuys was nou hier in my kamer
en die een tannie sê vir my...
‘luister, hy’s ʼn getroue man.’
Ek dag...
maar weet jy wát,
hy...
ek het vir hom só groot respek...
en weet jy wat,
hy het nog meer respek vir my
want hy kén my.
In die begin toe ek hier gekom het,
was ek gebroke.
Ek maak toe met oom Tobie ʼn afspraak.
Ek weet nie of jy hom ontmoet het nie?
Hy is 90.
Ek is 68.
En ek dog daardie ou omie...
ek se vir hom,
‘Tobie, ek wil jou vertel.
Iets het gebeur.
Maar kan ek na jou kamer toe kom
vir so tien minute?

25
Ek wil jou vertel
dat jy weet hoe dit nou met my gaan.’
Ek moes nie gegaan het nie.
Want hy wou eers gehad het
ek moet hom druk en ek dog,
‘Ok? Dis soos ʼn pa.
Ek gee maar ʼn drukkie.
Ek sit en die hand is op my knie.
Ek dog, Ok?
Dis nou nog niks.
Maar hy wys ek moet nie ver weg sit nie.
Toe vertel hy my hoe baie mooi vrou ek is.
Ek dink dis ok.
Dis als ok.
Toe staan ek op om te loop.
Hy sê,
‘bly net nog ʼn rukkie.
Kan ek net aan jou magie vat?’
Toe staan ek stadig op en ek sê,
‘Luister,
ek gaan loop.’
Hy sê,
‘gaan jy nou vir al die vrouens vertel?’
Ek is so geskok dat ek vir hom sê,
maar wat ek vir hom toe sê is waar.
Ek moet na ʼn ander dame toe gaan
wat twee kaartjies maak.
Ek sê,
‘Ek gaan na Hester toe.
Sy het vir my twee kaartjies gemaak.’
Ek maak die deur toe en loop uit.
Nog nooit weer by hom gewees nie.
Toe gaan praat ek met die mooiste man op hierdie erf.
Boytjie.
Hy was ʼn admiraal by Simonstad.
Maar hy is 83.
Ouer as ek.
Ek dog,
Ok,
ek gaan my hart uitpraat oor sekere dinge.
Oor daai vrou [by die eetsaal] wat my so ontstel het.
Ek glo nie ek is vyf minute in sy plek nie!
Jy weet...
jy het regtig nodig om met mense te praat.
Jy het soms nodig om met ʼn man te praat.
Maar toe loop die stories:
Ek loop agter Boytjie aan.
Ek weet nie of jy hom al ontmoet het nie?
Hy is ʼn pragtige man.
BAIE aantreklik.
Maar...

26
dis dit!
Dis waar dit vir my stop.
Maar die stories loop nou
ek loop agter hom aan.
Dis nou die rumour.
Ek is skoon bang!
Ek het tot vir hom gaan sê ek is jammer.
Sy vrou het op sterwe gelê
en mense het gedink
ek probeer haar plek neem
want ek het vir hom ʼn kaartjie gaan gee
toe sy vrou dood is.
Maar die vrouens!
Hier is baie min mans hier,
en BAIE vrouens.
En hulle hou jou dop!
Hulle sal vir my sê,
die slinksheid van ʼn vrou.
Die Jezebel-gees!
Prys die Here!
Dié dinge bestaan nie in my lewe nie.
As mans my begeerlik vind,
is dit nie my skuld nie!
Ek kan net die Here prys vir my gawes.
Ek kon nie glo toe ek hier land
en al hierdie goed sien nie.
Maar wat my betref het ek die mooiste kamer in hierdie gebou.

27
TONEEL 8
BEGEERLIKHEID
[ʼn Bewegingsekwens waar ANTOINETTE al jonger word.]

28
TONEEL 9
ELLA EN DAWID
[Die siekeboeg. DAWID lê in ʼn bed. ELLA sit langsaan hom.]
156. ELLA Ek is Ella le Roux.
157. DAWID Wat is dit nou?
158. ELLA Jou naam en van.
159. DAWID Ek is Dawid le Roux. Nou ja.
160. ELLA Begin jy maar. [Stilte.] Ag, dit is net…
161. DAWID Ons ouers was albei in die sending verbonde in Malawi. My pa was die
sendingdokter vir 17 jaar. En haar pa was, vir sy lewe lank eintlik, was
hy die sendinglandboukundige op hierdie stasie met die naam van
Likoma. Die gevolg is ons is albei daar gebore want hulle… ja. Ons het
daar grootgeword eintlik. Daar is ʼn klein primêre skooltjie op Likoma…
162. ELLA Was.
163. DAWID Huh?
164. ELLA Was. Nie meer nie.
165. DAWID Was. Tot hoërskool eintlik maar. Toe’t ons uitgekom Suid-Afrika toe. Sy
was op Worcester Hoër Meisieskool en ek was na Paul Roos toe. En toe
het ons albei studeer. Sy het... Uhm...
166. ELLA BSc met onderwys.
167. DAWID Ja. [Hy het nie gehoor nie.] Sê maar weer?
168. ELLA BSc! Met onderwys. In Wiskunde.
169. DAWID En ek het... ja... Engels... en watse vakke het ek nou weer geneem?
170. ELLA Volkskunde.
171. DAWID Maar op die ou end ook ʼn onderwysdeploma geneem. Ons het albei
weer die roeping gevind om Malawi toe te gaan. Wanneer het ons daar
aangekom?
172. ELLA 1958.
173. DAWID 1958. Ja. So ons het in die selfde jaar daar aangekom.
174. ELLA Ons was baie verbaas om mekaar daar te sien. Toe was daar nog baie,
baie Suid-Afrikaners wat daar gewerk het. Ons was goed oor die
honderd. Verskillende woonplekke. Hasies, soos ons hulle nou genoem
het.
175. DAWID Ons het maar die roeping gevoel om te gaan help daar.
176. ELLA Ja, daar was poste beskikbaar.
177. DAWID Daar was oor die honderd sendelinge daar gewees.
178. ELLA Hy weet dit.
179. DAWID Was hy daar?
180. ELLA Nee, ek het dit gesê.
181. DAWID O.
182. ELLA Dit was nog in die koloniale dae. Voor onafhanklikheid. Dis 40 jaar wat
ons toe daar gewerk het. Ons hele lewe lank. Dis interessant want ons
moes in Engels klasgee. Nie Chichewa – hulle taal – nie.
183. DAWID Intussentyd moes ons maar Chichewa leer. Dit was die reël van die
sending dat as jy daar aankom, moet jy onmiddellik die taal begin leer.

29
Daar was ook ʼn reël: jy mag nie trou voor jy nie die taaleksamen
deurgekom het nie.
184. ELLA Twee van hulle. Ons kan nog steeds die taal praat.
185. DAWID So bietjie vergeet, maar… [Lag.]
186. ELLA Hierdie mense is jou familie later. Mense sê: jy is nader aan jou
sendingsvriende as jou familie. En dis waar.
187. DAWID Ons is nog in kontak met almal.
188. ELLA Wel, ons is nou baie minder soos die ouens doodgaan. Maar die eerste
Saterdag van elke maand kom ons bymekaar en ruil nuus uit, praat oor
die wêreld, bid saam, drink tee saam. Dis baie goed. Veral vir party wat
alleen is. Ons het darem nog mekaar.
[DAWID hoes.]
189. ELLA Sit vorentoe. Moet ek die suster roep?
[DAVID wys met sy hand nee.]
190. ELLA [Aan ONDERHOUDVOERDER:] Ons het nie gedink jy gaan ook in die
siekeboeg met mense kom gesels nie. Mense is maar sieklik hier.
[DAWID het intussen opgehou hoes.]
Vertel my bietjie van tannie-hulle se kinders?
191. ELLA Ons kinders? Die een is ʼn dokter in Namibië. My seun… hy werk in
Koeberg. Dis naby. Die tweeling is in die onderwys – die seun is op
Bredasdorp en die dogter is in Natal. Hulle het ook almal hul eie
kinders. Al groot. Dis lekker.
192. DAWID Kom die kinders?
193. ELLA [Aan DAWID:] Nee. [Aan ONDERHOUDVOERDER:] Ons sien hulle maar
min.
194. DAWID 2016.
195. ELLA Nee, hulle was hier vir die TV.
196. DAWID Dit was laasjaar.
197. ELLA Nee, sewe maande gelede. Hulle’s ook besig met hul lewens. Ons volg
darem almal op die WhatsApp. Daar’s ʼn groepie. [Bring ʼn selfoon te
voorskyn.] Wag, ek kan vir jou foto’s wys.
198. DAWID Wys hom die Struisbaaifoto’s.
199. ELLA O, nou moet ek baie ver teruggaan.
200. DAWID [Aan ELLA:] Dis op die WhatsUp.
201. ELLA WhatsApp.
202. DAWID WhatsUp. WhatsApp.
203. ELLA O, hier’s ons een dogter in KwaZulu. Daar’s darem baie armoede. Sy
gee ook skool daar. Sy gee ook wetenskap.
204. DAWID Het sy ooit dankie gesê?
205. ELLA [Aan DAWID:] Moenie moeilik wees nie. [Aan ONDERHOUDVOERDER:]
Ek maak découpage goedjies. Dis baie gewild hier in die ouetehuis. Dit
het amper uitverkoop by die bazaar. Ons is dié wat oorgebly het vir die
kinders gestuur. [Aan DAWID:] Ai. (Dit vat te lank.) Kyk gou vir my. Ek
het nie my bril aan nie. [Gee die selfoon vir DAWID.]
206. DAWID Wat soek ek?
207. ELLA Die foto’s.

30
[ʼn Boodskap kom deur op die foon.]
208. DAWID Nee, nou’t hy weer afgespring.
209. ELLA Wat sê dit?
210. DAWID Dis ʼn foto.
211. ELLA Wag, ek kry gou my bril.
[ELLA gaan haal ʼn bril uit ʼn kassie.]
212. DAWID Deesdae is alles op dié ding [die foon]. Wat gebeur as hy breek? In daai
dae het mens nog regte foto’s geneem, dagboek gehou, geskrywe...
Ons het sulke pakke vol briewe want jy’t elke week briewe heen en
weer gestuur en baie inligting is in dié briewe vervat, natuurlik.
Deesdae skryf mense nie meer briewe nie, maar in daai dae… dit was
die ding gewees.
213. ELLA [ELLA het intussen die foon by DAWID geneem.] Ja, ná ons teruggekom
het, het ons van dié briewe gevat en dit so bietjie saamgesit en hierdie
boekie geskrywe. [Sy gaan haal ʼn groen boekie in die kassie getiteld
‘Die Storie van Mlanda’.]. Ná die Hoërskool, is ons toe nou gestuur.
Dawid – hoe oud was jy?
214. DAWID Hm?
215. ELLA 53. Om ʼn meisieskool te gaan begin. So jy kan dit saamvat en dan –
216. DAWID Dit is toe net ʼn kaal vlakte en ons moes die skool bou –
217. ELLA Daar’s nie water nie, daar’s nie krag nie! Vertel jy. [Sy werk weer op die
foon.]
218. DAWID Ja, wel, die regering wou eintlik graag daar ʼn Hoërskool vir dogters hê.
Ons is albei toe ʼn hele paar jaar in onderwys betrokke en ons is gevra
om die skool daar te begin. En daardie tyd was van die Mosambiek se
vlugtelinge daar. Bekwame manne wat kon werk en... Daar was baie
mense. ʼn Fransman. En ʼn –
219. ELLA ʼn Ier.
220. DAWID ʼn Skot.
221. ELLA ʼn Yank.
222. DAWID Ja, almal saam op dieselfde personeel. Mense wat nie mekaar ken nie,
maar wat mekaar moes vind.
223. ELLA [Verwysend na die foon:] Ai, dis oulik.
224. DAWID Wat nou?
225. ELLA [Verwysend na die foon:] Dis nou soos die kinders sê ʼn selfie. [Wys vir
DAWID.]
226. DAWID [Geen reaksie.]
227. ELLA Kom ons neem een. Ons is nog nie só oud nie.
228. DAWID [Verwysend na die ONDERHOUDVOERDER:] Hy sal nie omgee om van
ons te neem nie.
229. ELLA Kom, glimlag.
[ELLA hou die foon om ʼn foto van hulle te neem. DAWID glimlag nie. ELLA neem ʼn foto.]
230. DAWID [Aan ONDERHOUDVOERDER:] Hoe ouer jy word, hoe meer besef jy hoe
afhanklik jy van ander mense is. Nié altyd net vir hulle hulp en bystand
en versorging nie, maar van hulle teenwoordigheid.
231. ELLA Die ander gevaar is as jy ouer word, om net aan jouself te dink, my

31
skat.
232. DAWID Mens weet nie hoe lank mens meer het nie.
233. ELLA Ek gaan jou nog uitoorleef.
[DAWID begin weer hoes.]
234. ELLA [Vryf sy rug.] Toemaar. Toemaar. Ek is hier. Ek is hier.
[ʼn Bewegingsekwens tussen ELLA en DAWID.]

32
TONEEL 10
DIT BESTAAN
[Ons is in die ouetehuis se wasgoedkamer.]
[Wat is die mees aangename ding van hier bly?]
235. MARGUERITE Die siekeboeg is my hart se punt.
As ek nie hier kon help by die ou mense nie,
was ek lank al uit.
Daar sou niks wees wat my hier hou nie.
[En die moeiliker dele?]
236. MARGUERITE Ok...
Ok, kom ek sê vir jou wat ons doen.
Drie keer –
sewe uur die oggend, elfuur en vieruur –
tel ek en nog ʼn werker
elke broekie, elke baadjie, elke laken –
Ons moet saamstem...
Ons moet dan...
dan...
kyk...
Ok...
Ek tel.
Sy tel.
Ek tel.
Sy tel.
Goed.
Dan moet ons goed bymekaar kom en sê,
ok, ‘Total?’ ‘Total?’
As daar fout is,
‘nee, kyk, waar is daai broek? Waar’s dit?’
So...
Uh...
en tweetjies wat nou werk by die wassery...
Die enetjie is baie sweet met my.
Maar die jonger dame...
ʼn Jong kleurling vrou...
Sy is baie lelik met my.
Sy sal maklik vir my sê,
‘Mevrou, jy’t niks te sê hier nie.’
‘Jy kan nie nou iets sê nie
want dit het NIKS met jou te doen nie.’
Dis daai...
‘dit het niks met jou te doen nie...’
O!
Dit maak my hartseer.
Mnr Geldenhuys is wonderlik met my.
Die susters ook.
Die feit dat hulle gló in my
beteken vir my baie.
Regtig.
Want ʼn mens wil maar ook in die lewe voel dat jy nog...

33
nuttig is.
Dis hoekom so baie mense hier ongelukkig is.
Hulle het nie meer die vermoë om iets te doen nie.
Iemand moet my hare vir my indraai.
Iemand moet my klere vir my vou.
Iemand moet my was.
Dan word daar lelik gemaak met jou.
En dis hartseer.
Die...
Die...
Die...
ugh...
hulle is bo ons.
Ek sê baie keer vir hulle,
‘Pasop...
my kop is nog reg.’
Ék weet nie hoekom hulle dit doen nie.
Kyk...
ek...
ek weet nie...
ek...
hulle...
loop oor ons!
‘Julle het ons vertrap,
nou vertrap ons weer vir julle.’
Ons is baie versigtig, hoor.
Ons wat hier woon is baie versigtig.
Hier is ook ʼn gevoel van vrees.
Die mense het ʼn vrees dat hulle siekeboeg toe moet kom.
Want mens hoor baie goed.
Daardie ding van,
‘jy was baas.
Nou trap ek op jou.’
Dit bestaan nog, hoor.
Dit bestaan.
Kyk, jy het nie geleef in Apartheid nie.
Dié wat geleef het in Apartheid wat geveg het,
ons het respek vir mekaar gehad.
[Hewig emosioneel:] Ons het gehelp!!!
Hierdie klomp wat nou hier werk.
Hulle is jou ouderdom.
Hulle het geen idee...
Hulle was mos nie daar nie?
Hoekom moet hulle so wees met ons?
Hoekom haat hulle ons so?
Hulle het te veel gehoor.
Nie self ervaar nie!
Daar word gepraat, maar ons...
Ons ouderdom.
[Stil:] Ons praat nie daaroor nie.
Ek weet nie hoekom nie.

34
Ek kan regtig nie vir jou antwoord nie.
Ons praat nie oor apartheid nie.
Ek dink omdat…
Ek is bang oor wat hulle gaan sê.

35
TONEEL 11
DOBBELSPEL
[Die inwoners van die ouetehuis speel kaarte.]

36
OORGANG
ANDRÉ RIEU
[Die inwoners van die ouetehuis kyk ʼn André Rieu konsert op die televisies.]

37
TONEEL 12
EK WEET EK IS VEILIG
[ʼn MA en ʼn DOGTER in ʼn kamer in die ouetehuis. Die MA het Alzheimer. Sy het ʼn klein boekie
waarin sy haar skedule, dagsgebeurtenisse, en belangrike datums inskryf. Haar DOGTER het vir
haar hom kuier. ʼn Kort bewegingsekwens gebeur eerste. Dan:]
237. MA Waar is my man?
238. DOGTER Hy is in 2006 oorlede.
[MA maak haar boekie oop. Kyk daarin. Knik.]
239. MA O… Wie is jy?
240. DOGTER Nita.
241. MA O. Jy weet ek het een keer die hele kuslangs met Albert getoer. Ons
was in Namibie en van ons vakansiehuis kon jy die ongelooflike
sandduine sien. Ons het klippies versamel. Ek dink my dogter het dit. Jy
kry nie meer sulke klippies nie want in daai dae was daar nog klippies
op die kus. Dis deesdae net ʼn miernes. Het jy gesien wat staan in die
koerante want dis net mense mense mense oral waar mens kyk.
[Pouse.] Waar is ek?
242. DOGTER Jy is in Aristea.
243. MA O. Waar is Albert?
244. DOGTER Hy is oorlede in 2006.
245. MA Wie’s jy?
246. DOGER Nita.
247. MA [Herken haar.] O! [Pouse.] Ons vakansiehuis was nie so goed ingerig
nie, maar mens was eintlik daar vir die sand. Albert het klippies
versamel. Dis baie waardevol want mens kry dit nie meer nie want dit
was net op die kus. Daar was ‘n geoloog wat dit vir my vertel het. Jy
moet met hom praat. Deesdae is daar niks meer nie. Dis net diere.
Mens kan hulle seker nie dit noem nie. Mense. [Pouse.] Wie’s jy nou
weer?
248. DOGTER Ek is Nita, ma.
249. MA Was jy nie laas maand hier nie?
250. DOGTER Ek was Maandag hier, ma.
251. MA [Sy kyk in die boekie.] O, ja! Ja, ja. Nou onthou ek. Ons het gesels oor
Kersfees by Infanta. Dit staan hier! Onthou jy jou pa het sulke mooi
skulpies opgetel. [Pouse.] Jy weet… ek weet nie altyd waar ek is nie,
maar ek weet ek is veilig. [Pouse.] Hoe gaan dit met jou ma?
252. DOGTER Ma, dis ek. Nita.
253. MA Hoe gaan dit met jou pa?
254. DOGTER Pa is oorlede in 2006.
255. MA Albert. Ja. Ons het weer met die kinders Namibië probeer toer, maar
mens moet die heeltyd die kinders van die Bobbejane oppas. Eenkeer
wou ʼn jakkals in die bakkie inklim om droëwors te steel en dan geniet
mens dit nie meer nie, want die kinders is mos nou klein. Toe ons later
almal stort, het dieselfde jakkals met ons roomysbak met die eetgerei
weggestap.
256. DOGTER Ek moet die kinders gaan kry.

38
257. MA Watter dag is dit vandag? [Kyk in die boekie.] Ja? O, Nita! Ja. [Pouse.] Ek
weet nie altyd waar ek is nie, maar ek weet ek is veilig.
[Ná nog ʼn kort bewegingsekwens tussen MA en DOGTER, loop die dogter en THANDI kom in om
MA te troos en vir MA met ʼn lied.]

39
TONEEL 13
ANATOMIE

40
TONEEL 14
DIE SON
[ʼn Anonieme man verlate in die siekeboeg. Hy kan geensins beweeg nie. Hy het veelvoudige
sklerose.]
258. KOTIE Ek wou nog vir jou sê my seun doen drama.
Foto’s van hom en artikels van hom is teen die muur.
Hy is baie besig.
259. [Hoe lank is oom al hier?]
260. KOTIE In hierdie kamer...
Sit ek...
Ek het Kaapstad toe gekom in 2008.
Toe was ek [onhoorbaar] toe.
Ek kon hulle nie betaal nie.
Toe stuur hulle my ouetehuis toe.
[Hoe het oom by Huis Aristea aangekom?]
261. KOTIE My ma was hier.
Ek het baie hier kom kuier toe.
En toe
toe dink die kinders,
‘Ja, hierdie
ons gaan hierdie ou ʼn nice try gee.
(Kom) ons sit hom in die ouetehuis.’
Dis darem nie so erg nie.
[Hy lag effe.]
Van 2011 is ek in die ouetehuis.
[Waar het oom voorheen gebly?]
262. KOTIE Ek is…
Ek…
was ʼn predikant.
Pretoria.
NG Kerk.
Florandia.
Die gemeente het Florandia geword
want dit het uit twee woongebiede bestaan:
Maar dis nie belangrik nie.
[Hoe lank was oom ʼn predikant daar?]
263. KOTIE In Pretoria...
Agt jaar.
[Lang stilte.]
Toe...
toe dink ek...
uhm...
[Lang stilte.]
Ek maak ʼn gek van my
self en van die gemeente.
Ons is nie reg vir mekaar nie.
(Toe) bedank ek as predikant.
[Mag ek vra hoekom het oom bedank?]

41
264. KOTIE Ek moet eintlik onder tug kom.
Ek het
Uhm
[Hy huiwer.]
Ek het ʼn ander vrou gehad.
Ek is weg met haar...
hier na Kaapstad.
My neef was by Huisgenoot.
Toe bel ek hom en vra
is daar nie vir my werk nie?
Toe vra hy vir my
wat van my kerk?
Ek sê toe tussen my en jou,
ek dink nie ek moet hier by hierdie gemeente
langer predikant wees nie.
En toe...
uhm...
My ma-hulle het in Wellington gebly.
En toe my ma nou hiernatoe kom toe my pa dood is,
toe word my ma in
in
in
in
in
in Aristea...
[O. Uh... So toe het oom Kaap toe gekom...]
265. KOTIE Ek het by die Burger kom werk.
En later het ek by die Burger bedank en by
die Christelike Gereformeerde Kerk aangesluit.
En die res is
wat ek hier
wat jy nou sien.
Al moet...
ja.
[Het oom onmiddellik in die siekeboeg kom bly, of was oom eers in die woonstelle?]
266. KOTIE In die siekeboeg.
Want ek het
Uhm
die suster het eintlik vir my gesê
ek kan nie al my ledemate gebruik nie.
Ek bedoel my hande en bene.
Dis dié dat ek hierdie stoel het.
Want ek laat nie
ek het ʼn ander stoel gehad,
maar dis
[Lang stilte.]
net toe my pa dood is.
Het ek jou gesê my seun is ook in drama?
[Kom kuier oom se familie?]
267. KOTIE Hy is baie besig.

42
As die susters my stoel reg draai,
sien ek hom elke dag.
[Waar is oom se stoel gewoonlik?]
268. KOTIE Ek kyk na die son.
Maar ek kan nie uitgaan nie.
Die susters sê dit brand my.
Die son.
Ek mis die son.

43

You might also like