Professional Documents
Culture Documents
HISTORIA
HISTORIA
Argentinië trek die aandag van ekonomiese navorsers nadat dit in die laat 19de en
vroeë 20ste eeu genoeg gevorder het om onder die tien welvarendste lande ter wêreld
gereken te word, maar sy ekonomiese ontwikkeling het vanaf die Groot Depressie in
die vroeë 1930's 'n reeks van af- en opwaartse kurwes getoon wat dit agter sy
buurlande, veral Chili, laat terugsak het – om êrens tussen die vyftigste en
sestigste plek te beland. Vinnige en selfs stormagtige groei in die 1990's het in
2001 in een van dié land se diepste ekonomiese krisisse geëindig – en van dié land
die grootste buitelandse wanbetaler in die geskiedenis gemaak.
Tegelykertyd het Argentyne sedert hul onafhanklikwording in die vroeë 19de eeu
nooit daarin geslaag om 'n oorkoepelende nasionale identiteit te skep nie.
Argentinië word soms beskryf as 'n nasie van Europeërs wat aan boord van
emigrasieskepe gegaan het om die mees Europese land van Amerika of die mees
Amerikaanse land van Europa te word. Sy politiek en samelewing is gekenmerk deur
spanninge, geweldpleging, 'n halfeeu van staatsgrepe en 'n bloedige vervolging van
andersdenkendes, linkses, intellektueles of blote verdagtes tydens die militêre
diktatuur tussen 1976 en 1983, wat – ná jare van politieke onrus, ekonomiese chaos,
geweldpleging en opspraakwekkende ontvoerings van buitelanders – eufemisties as
"Nasionale Proses van Herorganisasie" (Spaans: Proceso de Reorganización Nacional)
beskryf is en moontlik 30 000 menselewens geëis het. Dit het sy hoogtepunt – en
einde – in die militêre aanval op die Britse Falkland-eilande tydens die
Falklandoorlog van 1982 gevind. Argentinië het daarna teruggekeer na 'n stabiele
demokratiese regeringsvorm.
Argentyne toon 'n neiging om hulself veral in teenstelling en opposisie met ander
te definieer en het dus in hul geskiedenis onderskeidings tussen "federaliste en
aanhangers van 'n eenheidstaat", "'n beskaafde samelewing en barbaarse toestande",
"radikale en behoudendes", "Buenos Aires en die res van dié land", "Peroniste en
anti-Peroniste" gemaak, ongeag dié land se redelik homogene bevolking van
merendeels Italiaanse en Spaanse afkoms en die gebrek aan enige merkwaardige
taalkundige of etniese diversiteit.[6]
Inhoud
1 Geskiedenis
1.1 Vroeë geskiedenis
1.2 Geboorte van die Argentynse nasie
2 Politiek
2.1 Politieke betrekkinge met Suid-Afrika
3 Provinsies
4 Geografie
5 Ekonomie
5.1 Huidige situasie
5.2 Landbou
5.3 Nywerhede
5.4 Energie
5.5 Buitelandse handel
5.6 Suid-Afrikaanse handel met Argentinië
5.7 Ekonomiese kernsyfers
6 Vervoer
6.1 Spoorweë
7 Demografie
7.1 Blanke bevolking
7.2 Immigrasiepatrone
7.3 Walliese immigrasie
7.4 Inheemse bevolking
7.5 Menslike ontwikkeling
7.6 Tale
7.7 Godsdiens
8 Sport
9 Bekende Argentyne
10 Verwysings
11 Bronnelys
12 Eksterne skakels
12.1 Argentynse koerante
Geskiedenis
Vroeë geskiedenis
Die grot Cueva de las Manos naby die stad Perito Moreno (provinsie Santa Cruz)
besit een van die oudste rotsskilderye in Argentinië
Die eerste Europeërs, wat in die 16de eeu langs die Argentynse kus geseil en hier
voet aan wal gesit het, was seevaarders op soek na 'n suidelike deurvaart van die
Atlantiese na die Stille Oseaan, waaronder Ferdinand Magellaan en Pedro de Mendoza.
Laasgenoemde het die nedersetting Nuestra Senora Santa Maria del Buen Aire, die
huidige Buenos Aires, in omtrent 1536 gestig. In die noordweste van dié land, waar
goeie landbougrond gevind word, het die Spanjaarde, wat vanuit die onderkoninkryk
Bolivië suidwaarts beweeg het, verskillende nedersettings soos Mendoza, Tucuman,
Córdoba en Salta gestig. Hier is perde geteel, vee vir vleisproduksie aangehou en
suiker, tabak en groente verbou.
Die noordwestelike deel van Argentinië het sy bloeitydperk in die 17de en 18de eeu
as gevolg van handel met die onderkoninkryk Peru beleef, terwyl Buenos Aires
destyds niks meer as 'n tweederangse hawe was nie. Eers in 1776 het Buenos Aires
die administratiewe sentrum van die nuwe vise-koninkryk 'Rio de la Plata' geword,
'n gebied wat die huidige Argentinië, Uruguay, Paraguay en 'n deel van Bolivië
ingesluit het.
Landskap in Patagonië
Portret van generaal José de San Martin, Libertador (bevryder) van Argentinië,
Chili en Peru
Buenos Aires
Op 25 Mei 1810 het die Kreoolse bevolking van Buenos Aires in opstand teen die
koloniale Spaanse bewind gekom. Hulle het voor die Cabildo vergader, die gebou waar
afgevaardigdes, wat deur die Spaanse Kroon benoem is, byeengekom het en die
visekoning en heersende junta se bedanking geëis. Ná 250 jaar se heerskappy oor die
kolonie was die heersende klas só verswak dat hulle voor die betogende massas
geswig het. Die politieke mag het skielik in die hande van 'n Kreoolse junta
beland.
Ook in ander dele van Suid-Amerika, waar 'n opgeleide en liberale stedelike
Kreoolse middelklas deur merendeels Spaans-gebore bewindhebbers geregeer is, het
inheemse burgers op magsdeling aangedring. In Europa het Napoleon Bonaparte destyds
militêr teen sy ou politieke bondgenoot Spanje opgetree, dié land binnegeval en,
ondanks plaaslike weerstand, sy eie broer tot nuwe koning verklaar. Hierdie gebeure
het die politieke druk op Spanje se koloniale bewind in Suid-Amerika versterk en
die tafel gedek vir politieke hervormings.
In 1816 het Argentinië onafhanklik van Spanje geword, na 'n kort stryd met die
Spaanse besetters, onder leiding van José de San Martin. De Sa Martin, wat ook in
Chili en Peru vir onafhanklikheid geveg het, word nog steeds deur die Argentyne as
'n held beskou. In die eerste jare van die jong nasie ontstaan diverse konflikte
tussen sentraliste en federaliste, tot in 1853, toe 'n nuwe grondwet aangeneem is.
In die tweede helfte van die 19de eeu gaan Buenos Aires snel vooruit, deels as
gevolg van die aankoms van duisende immigrante. Nuwe tegnologieë (vries van vleis,
spoorweë) stimuleer landbou en veeteelt. Nuwe gebiede soos Patagonië word verower.
Immigrante uit Engeland en Wallis begin skaapteelt op groot estancias. Argentinië
word na die Verenigde State die tweede "Beloofde Land" van die Amerikas.
Politiek
Die Argentynse grondwet van 1853 (hersien in 1994), bepaal 'n skeiding van magte
tussen uitvoerende, wetgewende en regsprekende magte, sowel op nasionale as
provinsiale vlak. Die president en adjunkpresident word direk verkies vir
ampstermyne van vier jaar. Beide mag slegs twee opeenvolgende termyne dien, maar
kan na 'n tussenpose van ten minste een termyn vir 'n derde termyn staan.
Die president benoem die ministers. Die grondwet gee aansienlike mag aan die
president in die dubbele funksie as staatshoof en regeringsleier. Die president het
onder andere die vermoë om in "dwingende en noodsaaklike" omstandighede
presidensiële dekrete uit te vaardig. Die huidige regeringsleier is Alberto
Fernández.
Die Argentynse parlement (Congreso Nacional, "Nasionale Kongres") bestaan uit die
Senaat (Senado) met 72 setels en 'n Kamer van Afgevaardigdes (Cámara de Diputados)
met 257 setels. Sedert 2001 word senators regstreeks verkies en elke provinsie,
insluitend die federale hoofstad, word deur drie senators verteenwoordig. Senators
dien 'n termyn van ses jaar en afgevaardigdes vier jaar. Verkiesings word elke twee
jaar gehou vir een derde van die senaat- en die helfte van die afgevaardigdes se
setels. Beide kamers word verkies deur proporsionele verteenwoordiging.
Vroue het eers in 1952 stemreg gekry en omdat daar nog steeds afsonderlike manlike
en vroulike kieserslyste bestaan, moet vroue ook in afsonderlike verkiesingslokale
stem. In die presidentsverkiesing van 2007 het twee vroulike kandidate meer as twee
derdes van die uitgebragte stemme op hulle verenig.[9]
Provinsies
Geografie
Argentinië kan rofweg in drie geografiese gebiede verdeel word: die vrugbare
vlaktes van die pampas in die noordelike helfte van dié land (die bron van die
Argentynse agrariese rykdom); die plato van Patagonië in die suidelike helfte tot
aan Vuurland (Tierra del Fuego); en die rotsagtige Andes-bergrug langs die
westelike grens met Chili, met Aconcagua as hoogste punt (6 962 m), gevolg deur
Ojos del Salado (6 893 m).
Ekonomie
Om die ekonomiese krisis teë te werk, het die regering besluit om vrye handel,
deregulering en privatisering na te volg. In 1991 het radikale monetêre hervorming
plaasgevind, waarvolgens die Argentynse peso aan die Amerikaanse dollar verbind en
geldgroei tot die groei in nasionale reserwes beperk is. Die Argentynse peso se
onrealisties hoë wisselkoers het 'n negatiewe invloed op dié land se
mededingendheid uitgeoefen, veral in vergelyking met Brasilië en ander Mercosur-
lidstate. As gevolg hiervan en vanweë die gelyktydige liberalisering van die
buitelandse handel het 'n massale deïndustrialisasie plaasgevind.
Aanvanklik was die hervorminge 'n sukses. Inflasie het gedaal en die bruto
nasionale produk (BNP) het gestyg, maar opeenvolgende ekonomiese krisisse in
Meksiko, Asië, Rusland en Brasilië het tot 'n nóg groter ekonomiese val vanaf 1999
gelei. Die regering het met belastingverhogings en besuinigings gereageer ter
beperking van die begrotingstekort, wat teen 1999 tot 2,5% van die BNP gestyg het.
Binnelandse en internasionale beleggers het egter aangehou twyfel in die regering
se vermoë om die skulde af te los en die vaste wisselkoers tussen die peso en
dollar te handhaaf.
In 2001 het die toestand nog meer versleg deur die groei van die aantal
verpligtinge, massale geldopnames by banke en 'n verdere val van verbruikers- en
produsentevertroue. Regeringpogings om 'n begroting wat klop te bereik – om so die
bankstelsel te stabiliseer en ekonomiese groei te herstel – het geblyk om
onvoldoende resultaat op te lewer. President Eduardo Duhalde het daarin geslaag om
van die Internasionale Monetêre Fonds 'n lening van 20 miljard VS$ te verkry, maar
verdere maatreëls is nie toegepas nie. In Januarie 2002 is die peso losgemaak van
die dollar en die ekonomie het op 'n lae vlak begin stabiliseer. Die sterk
ekonomiese groei van die jare 2003 en 2004 was 'n gevolg van die dramatiese afname
in die bruto nasionale produk in die jare voor 2003.
Huidige situasie
Die nywerheidstad Córdoba is die sentrum van die Argentynse motorbedryf: Avenida
Chacabuco
Argentinië se ekonomie maak net stadig vordering nadat die land teen die middel van
2018 'n kwaai resessie beleef het. Die ekonomie het met 'n gemiddeld van 2,5
persent oor die hele jaar en met meer as 6 persent in die laaste vier maande
gekrimp. Vir 2019 word 'n verdere krimping van sowat 1 persent verwag.
Die uitvoergerigte landbousektor sal danksy die verwagte rekordoes in 2019 in die
tweede kwartaal 'n hupstoot kry. Beleggings sal voor die verkiesing in Oktober 2019
waarskynlik geen noemenswaardige bydrae tot ekonomiese groei lewer nie.
Die Argentynse peso het in 2018 meer as die helfte van sy waarde teenoor die
Amerikaanse dollar ingeboet. Invoere het as gevolg hiervan merkbaar afgeneem (29
persent in die vierde kwartaal van 2018). Uitvoere het na die peso se devaluasie
skerp gestyg, net soos die getal buitelandse toeriste (terwyl Argentyne die
voorkeur aan binnelandse vakansies begin gee), sodat daar in 2019 'n oorskot op die
handelsbalans verwag word.
Landbou
Wynberg naby Cafayate in die Salta-provinsie
Sojaboonoeste in die provinsie van Buenos Aires. Argentinië is die derde grootste
produsent van sojabone in die wêreld.[10] Die sojaboonbedryf is een van die drie
grootste sektore in dié land, ná die petrochemiese en metaalbewerking
Die hoogs gemeganiseerde landbousektor beslaan sowat 65 persent van dié land se
totale oppervlakte. Alhoewel die landbou se bydrae tot die bruto nasionale produk
slegs 11 persent beloop, is dit steeds die grootste bron van buitelandse valuta.
Die landbousektor word deur 'n klein aantal welvarende gesinne met groot landerye
oorheers. Die belangrikste landbouprodukte is koring, mielies, sorghum, lynsaad,
soja, sonneblompitte, grondboontjies, katoen, suikerriet, groente, vrugte, wyn,
tabak en mate.
Argentinië is steeds een van die grootste vleisprodusente ter wêreld, alhoewel sy
aandeel aan die wêreldproduksie geleidelik begin afneem. Die belangrikste produkte
van die veeteeltbedryf is bees- en skaapvleis, en weivelde beslaan sowat 52 persent
van dié land se oppervlakte. Oos-Patagonië is die sentrum van die Argentynse
skaapteeltbedryf.
Die bosboubedryf beslaan 13 persent van die oppervlakte; bosvelde en woude is die
belangrikste bossoorte. Die Quebrachoboom lewer tannien op. Die visserybedryf langs
die kus en in internasionale waters word al hoe belangriker.
Nywerhede
Die plaaslike nywerheidsbedryf het sy sentrums veral in die metropolitaanse gebiede
van Buenos Aires, Córdoba en Rosario en lewer 32 persent van die bruto nasionale
produk op. Die swaartepunt van die sektor het in die afgelope dekades van ligte
nywerhede en voedselverwerking na die chemiese, ruolie-, yster-, staal-,
elektriese, masjienbou- en motorbedryf begin verskuif. Die Argentynse
motorfabrikate sluit Anadón, ASA, Biscayne en JVA in, en volgens sommige is
Lamborghini Latinoamérica 'n aparte motormerk.
Energie
Argentinië se minerale rykdomme sluit onder meer groot aardgasvelde in; hierdie
energiebron speel al 'n beduidende rol en word tans veral vir koskook- en
verwarmingsdoeleindes en as alternatiewe brandstof vir voertuie gebruik. Nogtans
het die groeiende vraag na aardgas, die wanbestuur van plaaslike energiemaatskappye
en die toenemende tekort aan fossiele brandstowwe daartoe gelei dat steeds groter
hoeveelhede aardgas uit die buiteland, veral Bolivië, ingevoer moet word.
Herwinbare energiebronne word al hoe belangriker. Naas waterkrag word sedert 1994
steeds meer elektrisiteit deur windkragsentrales voorsien. Windenergie speel in die
suidelike provinsie Chubut (Patagonië) met sy winderige klimaat al 'n belangrike
rol. Windkrag het 'n baie groot potensiaal in Argentinië en word sedert die laat
1990's deur die regering bevorder. In 2006 was Argentinië nogtans slegs die derde
grootste produsent van windenergie in Latyns-Amerika, ná Meksiko en Brasilië.
Buitelandse handel
In 2006 het Argentinië se uitvoere met 15 persent gegroei en 'n rekordvlak van 46,6
miljard VS-dollar bereik. Die invoere het selfs met 19 persent tot 34,2 miljard VS-
dollar gestyg. Agrariese grondstowwe en voedsel het weer sowat vyftig persent van
die uitvoerwaarde verteenwoordig. Nogtans het die aandeel van nywerheidsprodukte
(32 persent van die totale uitvoere) met 23,5 persent sterk toegeneem. Die
belangrikste markte vir Argentynse uitvoere in 2006 was die Suid-Amerikaanse
vryehandelsone Mercosur met 'n aandeel van 21,3 persent, die Europese Unie met 17,5
persent en die Noord-Amerikaanse vryehandelsone NAFTA met 12,9 persent.[11]
Ekonomiese kernsyfers
Ekonomiese Kernsyfers[12][13][14] 2010 2011 2012 2013* 2014* 2015* 2016* 2017*
2018*
Bruto binnelandse produk (BBP, nominaal, in miljard VS$) - - 475,2 484,6
497,2 630,4 541,7 595,0 475,4
BBP per capita (nominaal, in VS$) - - 11 583 11 679 11 849
14 617 12 425 13 497 10 667
Reële groei van die BBP in % 9,2 8,9 1,9 2,4 -2,5 2,5 -1,8 2,9 -2,6
Inflasiekoers in % - - 10,0 10,5 11,4 - - 23,2 31,8
Werkloosheid in % 7,7 7,2 7,3 - - 6,5 9,2 8,4 8,9
Begrotingstekort (in % van die BBP) - - -2,6 3,4 -3,0 -6,6 -7,1 -6,7
-5,4
Tekort op die lopende rekening (in % van die BBP) - - -0,0 -0,8 -0,8
-2,5 -2,3 -4,9 -3,7
Publieke skuldlas (in % van die BBP) - - 47,7 47,8 45,9 52,1 51,8
57,6 62,7
* skatting
Vervoer
Spoorweë
Die Gran Capitán, 'n langafstandtrein wat tussen Buenos Aires en Posadas geloop
het, omstreeks 1990
Die beroemde Tren a las nubes ("Trein na die wolke") loop deur bergagtige terrein
in die Andes-bergreeks
Die eerste Argentynse trein het op 29 Augustus 1857 geloop. Vervolgens is dié land
se spoornetwerk vinnig uitgebrei, waarby Britse ondernemings en kapitaal 'n
sentrale rol gespeel het. Spoorweë het in die volgende dekades 'n sleutelbedryf by
die ekonomiese ontwikkeling van dié land geword. In die 1930's was die Argentynse
spoornetwerk met 'n totale lengte van 43 000 kilometer groter as dié van die meeste
Europese lande. Nadat dit byna 'n eeu lank deur 'n groot aantal onafhanklike
privaat ondernemings, waaronder talle Britse maatskappye, bedryf is, het president
Perón die spoorbedryf in 1946 genasionaliseer.
Amerikaanse raadgewers, wat teen die einde van die 1950's aangestel is om die
verdere ontwikkeling van die bedryf te beplan, het die voorkeur aan padvervoer
gegee sodat in die volgende jare steeds meer spoorlyne gesluit is. Argentinië se
nasionale spoorweë is in 1992 onder die regering van president Carlos Menem weer
geprivatiseer. Passasiervervoer is verder verminder en die invloedryke
spoorwegvakbond ontbind. Meer as 50 000 mense het hul werk verloor en hele streke
het agteruitgegaan, terwyl korrupsie in die spoorbedryf toegeneem het.
Argentinië beskik oor 'n uitgestrekte spoorwegnetwerk met 'n totale lengte van
sowat 31 000 kilometer met drie verskillende spoorwydtes. Twee spoorlyne verbind
dié land met Chili, ander lyne loop oorkant die landsgrense na Bolivië, Paraguay,
Uruguay en Brasilië. Nogtans hanteer dit tans minder as vyftien persent van dié
land se totale vragvervoer (in vergelyking met Europa se vyftig persent), word
verdere lyne gesluit of raak in verval. 85 persent van alle vrag word op Argentinië
se paaie vervoer. Die regering beplan om 'n groter deel daarvan na die spoorweë te
skuif.
Nog 'n rede vir grootskaalse beleggings in die modernisering van die spoorbedryf,
wat grotendeels deur Chinese lenings ter waarde van maksimaal 4,9 miljard VS$
gefinansier sal word, is 'n reeks noodlottige treinongelukke wat die lewens van 'n
vyftigtal passasiers geëis het, naas vertragings en ander probleme. In die vroeë
21ste eeu is 'n groot getal privaat spoormaatskappye genasionaliseer nadat hulle al
lank afhanklik van staatsubsidies was. Privaat spoorlyne speel egter nog 'n
belangrike rol as diensverskaffers in die openbare vervoerstelsel van Argentinië,
terwyl die infrastruktuur deur die staatsonderneming Administración de
Infraestructuras Ferroviarias Sociedad del Estado (ADIF S.E.) bestuur word. Die
laaste privaat maatskappy, wat in Oktober 2013 ná 'n reeks ongelukke
genasionaliseer is, was Sarmiento wat pendelaardienste in die weste van Groter
Buenos Aires bedryf.
Demografie
Blanke bevolking
Vroeë 20ste eeu: Immigrante sit in Buenos Aires voet aan wal
Andrea Gabriela García Gava, "Koningin van die Italiaanse Gemeenskap", tydens die
XXXV Fiesta Nacional del Inmigrante (35ste Nasionale Immigrantefees) wat in 2014 in
Oberá (provinsie Misiones) gehou is. Na beraming het 25 miljoen Argentyne ten
minste een Italiaanse voorvader
Die Argentynse bevolking is 'n mengsel van nasionale en etniese groepe, waarin die
nakomelinge van Italiaanse (36 persent) en Spaanse immigrante (29 persent)
oorheers. In die tydperk tussen 1850 en 1970 het sowat agt miljoen immigrante hulle
in Argentinië gevestig. In die periode tussen 1820 en 1920, toe 'n geskatte 55
miljoen Europese emigrante hulle in oorsese gebiede gevestig het, was Argentinië
met 5,5 miljoen nuwe aankomelinge die tweede belangrikste ontvangende land ná die
Verenigde State en nog voor Kanada en Brasilië.
Daar is tans sowat 4 miljoen Argentyne van Duitse afkoms en kleiner minderhede van
nasate van Engelse, Walliese, Ierse, Franse, Switserse en ander Wes- en Middel-
Europese immigrante. In die metropolitaanse gebied van Buenos Aires en in die
provinsies Chaco en Misiones is daar groter groepe van Poolse immigrante wat hulle
in die 1920's hier gevestig en baie van hul tradisies bewaar het.
Klein groepe Afrikaners – die sogenaamde "bittereinders" – het hulle na die Tweede
Vryheidsoorlog in die omgewing van Comodoro Rivadavia (provinsie Chubut) gevestig.
Die meeste van die sowat 600 emigrante het in die dertigerjare weer na Suid-Afrika
teruggekeer. Veral in die stedelike gebiede woon ongeveer 'n half miljoen
immigrante uit Sirië, Libanon en andere lande in die Midde-Ooste. Sedert die
negentigerjare het 'n aantal immigrante uit Oos-Asië en die voormalige Sowjetunie
hulle in dié land gevestig. Dié land trek ook sommige sogenaamde ekologiese
immigrante uit Europa.
Nogtans het die getal immigrante sedert die laat 20ste eeu bestendig afgeneem,
terwyl talle hoogs gekwalifiseerde Argentyne hulle in die buiteland gevestig het.
Veral gedurende Argentinië se ekonomiese krisis in die tydperk tussen 1998 en 2002
het emigrasiesyfers skerp gestyg.
Immigrasiepatrone
Ekonomiese en sosiale faktore het verhoed dat Argentinië tot 'n "smeltkroes" van
kulture kon ontwikkel soos die Verenigde State. Die Spaans-Kreoolse bolaag van die
samelewing het min moeite gedoen om die groot getalle immigrante te integreer,
terwyl meer as 90 persent van nuwe aankomelinge nie Argentynse burgerskap aanvaar
het nie om nasionale diensplig te vermy. Italiaanse immigrante in Buenos Aires het
nogtans groot belang gestel in die politieke ontwikkelinge van hul vaderland.
Leidende Italiaanse politici soos Giuseppe Mazzini en Giuseppe Garibaldi het vurige
aanhangers in Suid-Amerika gehad.[17]
Walliese immigrasie
'n Tweetalige straatbord in die provinsie Chubut. Die getal Argentyne van Walliese
afkoms word op sowat 72 500 beraam – van wie tussen 5 000 en 12 000 nog Wallies as
huistaal praat
In Liverpool, 'n Noordwes-Engelse hawestad met 'n betreklik groot bevolking van
Walliese afkoms, is 'n emigrasie-komitee onder voorsitterskap van Michael Jones, 'n
boorling van Bala, in die lewe geroep wat die Argentynse kolonie as 'n kans beskou
het om die Walliese identiteit, taal en kultuur oorsee te bewaar. In 1865 het 'n
groep van byna 200 Walliesers aan boord van die Mimosa, 'n brik van 447 ton, vanuit
Liverpool-hawe na Patagonië vertrek. Die skip het veilig in Suid-Amerika aangekom
waar die immigrante in die hawe van die latere Puerto Madryn voet aan wal gesit
het.
Ná 'n moeilike begin het die Walliese nedersettings, wat grotendeels langs die
Atlantiese kus van Chubut geleë is, begin floreer. In die volgende vyf dekades het
nog honderde Walliese immigrante hulle hier kom vestig om Walliese nedersettings
soos Porth Madryn (Puerto Madryn) in die Nuwe Baai; Rawson, Gaiman, Trelew en
Dolovan in die Chubut-vallei en Trevelin in Cwm Hyfryd te stig. Nasate van Walliese
setlaars word daarnaas aangetref in Esquel, geleë aan die voet van die Andes-
bergreeks; in Comodoro Rivadavia (die grootste nedersetting in die provinsie); in
Colonia Sarmiento en elders in Argentinië.
Die kolonie, waarin die tradisionele Walliese regstelsel toegepas en die Keltiese
Walliese taal gebesig is, sou die eerste samelewing word wat stemreg aan vroue
toegeken het. In 1876 is die eerste kulturele fees of Mawr Eisteddfod op Beti Huws
se plaas in Chubut gevier.[18] Die fees, wat sedert 1900 gereeld in Trelew gehou
word, is die hoogtepunt van Patagoniese Walliesers se kulturele lewe.
Inheemse bevolking
Die grootste Indiaanse volke is die Kollas in Jujuy en Salta, die Mapuche of
Araukaners in Neuquén en Río Negro, en die Wichi en Toba in Chaco en Formosa. Die
Coya-Indiane in Noordwes-Argentinië is afstammelinge van die ou Inka-beskawings.
Slegs 'n minderheid van indigene Argentyne woon in hul oorspronklike stamgebiede.
Die meeste Indiane het hulle in die groot stedelike sentra gevestig waar hulle
dikwels in suiwer Indiaanse woonbuurte bly en moeilike lewensomstandighede moet
hanteer. Sedert die 1980's word pogings onderneem om die oorspronklike tradisies en
leefwyse te bewaar.
Die noordooste met die provinsies Misiones en Corrientes is die enigste streek in
Argentinië waar 'n kulturele versmelting tussen Guaraní-Indiane en Spaanse setlaars
plaasgevind en 'n groot aantal gemengde huwelike voorgekom het.[20] Oor 'n tydperk
van driehonderd jaar vanaf die begin van die Spaanse kolonisasie het naas die
Kreole (nasate van Spaanse setlaars) ook 'n groot groep van Mestiese (mense van
gemengde Spaans-Indiaanse afkoms) ontstaan.
Menslike ontwikkeling
Sowat 97 persent van die Argentynse bevolking is geletterd, en kinders in die
ouderdomsgroep tussen 5 en 14 jaar is skoolpligtig.
Tans leef sowat die helfte van die bevolking op of onder die broodlyn en die
werkloosheidsyfer het sedert 2001 byna 20 persent bereik.
Tale
Die enigste amptelike taal is Spaans, hoewel die immigrante se nasate wat ouer as
40 jaar is, hulle eie taal behou het.
Godsdiens
Sport
Bekende Argentyne
Vlag van Chili Chili Suidelike Oseaan • Antarktika Atlantiese Oseaan • Flag of
the Falkland Islands Falkland-eilande
lbw
Lande en gebiede in Suid-Amerika
lbw
Groep van Twintig (G20)
Normdata Edit this at Wikidata
BNE: XX5308160BNF: cb11862283g (data)CiNii: DA10147253GND: 4002890-2HDS:
003391ISNI: 0000 0001 2309 3391LCCN: n79070134MusicBrainz: 0df04709-c7d8-3b55-a6ea-
f3e5069a947bNARA: 10045211NDL: 00560367NKC: ge128676NLI: 000975864SUDOC:
026359537TDVİA: arjantinVIAF: 146499420WorldCat Identities: lccn-n79070134
Hierdie artikel is gekies as 'n voorbladartikel. Klik gerus hier vir meer
inligting.
Kategorieë: ArgentiniëVoormalige Spaanse kolonies