You are on page 1of 3

Hans se lekker jellie van Essa op Alma

Of is dit Essa op Alma se lekker jellie van Hans?

Dit maak seker nie saak nie, want óf jy hou van jellie, óf jy hou nie van jellie nie.

Daar’s meer grootmense wat nie van jellie hou nie, as wat daar is wat wel van jellie hou. Ek sal my mangels jaarliks van
vooraf laat uithaal, as ek tog net elke keer weer ‘n bakkie hospitaaljellie kan kry.

Met die dat retro so in is onder die kinders en hulle deesdae te vertelle loop dat hulle alles van ABBA weet nadat hulle
ouers hulle saamgesleep het na die teater toe en hulle ‘n jaar later weer die fliek gaan kyk het, nadat hulle nie meer kan
wag om, nie ‘n foam party nie, maar ‘n kaskarwedren by die skool aangebied te kry nie, wil ek tog kyk of ons hulle nie die
lekkerte van ‘n retro-kermis kan bied nie.

Die tegniese skool, net op van ons in die straat, het destyds hul kermis jaarliks op 31 Mei gehou. Maar die is ook nou nie
meer ‘n vakansiedag nie en ons sal moet settle vir Vroue- of Sowetodag.

En dan praat ek nie van ‘n Entrepreneurs- of markdag nie, ek praat van ‘n KERMIS waarvoor die hele skool al teen
Donderdag tot stilstand kom. Elke klas het sy eie stalletjie en Mammas en Pappas verkoop spesiaal gedrukte groen en
pienk geldkaartjies deur een van die klaskamervensters.

Elke kind sal vir weke lank elke dag pienk olifantjies van die huis af bring — vir Tombola en vissievang. En skyfskiet en
veerpyltjies. Ons sal ook wag tot net voor toemaaktyd voor ons die blink rooi fiets se gelukkige nommer in die tombola-
balie gooi. Dalk maak ons dit dertig jaar later net ‘n ‘n i-pod of kry ons iewers ‘n te wen.

Dit maak nie saak nie, ook nie die sosaties, lucky draws, reuse pannekoekbak-kontrepsies en vetkoek en mince nie; wat
saakmaak is die bazaar-poeding. Ek glo, en hoop, jy kry dit nog iewers in ons land. Ongelukkig het selfs kerkbasaars in
Pretoria en omgewing dit al vir jare nie meer nie, wat nog te sê die verskonings vir kermisse wat die skole hier rond
deesdae aanbied.

In elke plêstiekbakkie dan drie kleure jellie, ‘n skeppie of twee instant pudding en home made custard om mee af te
rond. Iewers sal iemand darem seker onthou om ‘n boudoir biscuit en ‘n skeppie fruit cocktail in te werk, as ons gelukkig
is dalk ook een van daai konkoksies wat crushed pineapple, ideal melk en jellie ingekry het. Van die mammas wat hul
kinders in 4X4’s aflaai, of laat aflaai, sal seker boksies vla en ander vooraf bereide goedjies van Woolworths stuur, maar
dit maak nie saak nie, jy kan mos jou eie bakkie kies en sal my oë oophou vir heulweltjies drillerige groen en geel en rooi
jellie.

Die eerste jellie wat ek self gemaak het was ‘n flop. Dit getuig dat ek van kleinsaf waagmoed in die kombuis openbaar
het en nie bang is om te eksperimenteer nie, maar nogtans was dit een van my minder suksesvolle kombinasies.

Muesli het daardie jare net in Suid-Afrika aangekom, en dit was vir my, o, so lekker. Daarom dat ek dit goed gedink het
om hierdie lekker met die ander lekker van jellie te meng.

Wat ek vyf en dertig jaar later die duidelikste onthou is ek nie seker nie; of die walglike smaak en botsende teksture, of
my ma se ergernis oor ek so met die muesli gemors het.

Jare later sou jellie van vonkelwyn, jellies van kersiesap en allerhande ander stuitighede kom.

Maar die lekkerste jellie, ooit, het ek by Tannie Essa, op Alma in die omgewing van die Waterberge, leer eet. ‘n
Eenvoudige, gestroopte jellie, sonder fieterjasies en tierlantyntjies. Nie net leer eet nie, maar ook fluks leer maak, nadat
sy die resep met my gedeel het. Essa is nie die tipe bobaas-kok wat reseppies in ‘n boek opgesluit hou en ás sy een deel,
dan ‘n ingrediënt uitlaat of hier en daar ‘n 0 agter ‘n maat byvoeg of weglaat nie. So lekker soos dit vir haar was om vir
jou kos te maak, so lekker was dit vir haar om ‘n resep te kan deel.

So onthou ek haar. Of sy nog leef, weet ek nie. Ons het kontak verloor, maar ek het onder vriende wat van jellie hou vir
myself naam gemaak met haar reseppie. Kom kuier party ‘n jaar of wat later, dan is daar ‘n spesiale versoek vir daardie
jellie.

Net jammer daar is so min mense wat van jellie hou. Ek het dit hoogstens een keer ‘n jaar gemaak. En daar verloor ek die
resep. (Nie dat ‘n mens ‘n ding soos ‘n resep verloor nie — ek het dit seker maar onwetend weggegooi.)

Nie dat dit my gekeer het om haar jellie te maak nie. Ek het selfs in my resepteboek (die een in haar pa se eie handskrif
wat Klaradyn eendag gaan erf) ‘n resep onder die opskrif Alma-jellie. Maar ‘n resep is dit ook nie, letterlik net die
bestanddele soos ek dit onthou: lemoensap, naeltjies, sjerrie, kaneelstokkies, water, gelatien, en in hakies, room. G’n
ding soos custard, nie eers home made, saam met hierdie jellie nie — room, ongeklop, ongesuiker en asseblief tog onge-
vanilla.

Ja, ek loer in boeke, deurkruis die internet, verslind die vrouetydskrifte in die dokter se spreekkamer, maar ek kry niks
wat vaagweg herinner aan Tannie Essa se Alma-jellie nie.

So krap ek ‘n jaar of twee, drie gelede deur laaie en kaste en kom op ‘n ou telefoonboek uit die 1980’s af. Daar’s ‘n
nommer Alma toe en ek bel. Wonders bo wonders bly Tannie Essa-hulle steeds daar, op pad na ‘n aftree-woonstel en
het ek twee maande later gebel sou ek hulle nie in die hande kry nie.

Ja, sy onthou my. Nee, sy onthou niks van die jellie nie, maar ek moet oor ‘n week weer bel, dalk spoor sy dit op.

Ek bel, omtrent op die minuut, presies ‘n week later weer. Nee, niks opgespoor nie, maar dis mos maklik om jellie te
maak. Sy vat sap waarvoor sy lus is, iets met alkohol in, en of dit nou sjerrie, port, of brandewyn is, maak nie saak nie.
Dan kom daar kruie by, suiker en gelatien.

Soos die bestanddele daardie kant genoem word, tik ek dit hierdie kant in my kookboek af.

En ja, ek kan kosmaak sonder mates en hoeveelhede en gewigte, ek weet selfs ‘n mens kan nie muesli en jellie meng nie,
maar dis nou vyftien jaar laas dat ek Tannie Essa se jellie gemaak het dat dit proe soos Tannie Essa dit gemaak het: die
lekkerste jellie ooit.

En ek maak vrede daarmee dat Essa se jellie saam met haar in haar graf sal in en dat alle jellie wat ek tot my sterfbed
gaan eet, nie naby haar jellie gaan kom nie.

Dis nou tot my ma-hulle self oornag uit die woonstel na ‘n versorgingseenheid moet gaan. Kookboeke kom na Hans toe,
en daar, op soek na Tannie Connie se grondbootjiebotterkoekies-resep, in my ma se handskrif staan dit, eenvoudig,
gestroop, sonder tierlantyntjies en allerhande fieterjasies: Hansie se lekker jellie. (Het ek selfs by my eie ma gaan ploeg
met ‘n ander vrou se kalwers?)

750 ml lemoensap
250 ml brandewyn — of sjerrie
12 naeltjies
lemoenskil gerasper
2 kaneelstokkies
60 ml gelatien
1¼ l koue water
250 — 750 ml suiker
(bedien met room)

Toe onthou ek hoe ‘n glinster in haar oog Tant Essa kon kry as sy kosmaak. Toe bel ek dadelik. Maar ek was te laat, die
nommer het daai láááng besettoon gegee, wat aandui die nommer bestaan nie meer nie.

Maar as sy in haar graf is, weet ons nou ten minste dis nie saam met haar jellie-resep nie. Ek en my skoonpa eet Kersfees
jellie met room. Wat die res van die familie eet, skeel my min.

You might also like