You are on page 1of 12

Vermoede van onskuld

“A flash of lightning illuminated the object ... it was the wretch, the filthy daemon, to whom I had

given life.”

Frankenstein, Mary Shelley

Haar ma het hulle genooi vir ʼn ligte ete voor die rugby laatmiddag afskop, sommer sop of iets en

peuselhappies. ʼn Paar familielede en enkele vriende sal ook daar wees; insluitend haar enigste broer

Reuben (die maltrap, skerts Ragel altyd) en sy aanvallige vrou, Dorothy. Hulle hoef niks te bring nie,

net drinkgoed ‒ aan’t huis in Little Falls, Roodepoort, ʼn voorstedelike buurt te Johannesburg. Dit is

middel Julie en die blou Hoëveldse luggie sny soos ʼn laser deur dun velle. Dis rooi neusvleuels, koue

oorlobbe, dik baadjies en jasse.

Gure weer.

Hulle neem twee bottels rooiwyn, ʼn pinotage en cabernet sauvignon.

Isak vermoed iets, want die troudatum kom al hoe nader, maar sy aanstaande bruid, die

beeldskone Ragel, ʼn laatlammetjie by ʼn veel jonger ma, weet niks óf swyg soos die graf en dit maak

hom bitter bekommerd. Hy was al by ʼn ramparty of drie en het sonder uitsondering vroeg gewaai.

Hopelik het sy pleidooi dat min dinge hom so koud laat soos ʼn spul dronk mans met ʼn verskoning om

hulle barbaars te gedra nie op dowe ore geval nie. Bulkalwers wat nooit wasdom bereik het nie,

mymer hy misnoeg.

Dis haar ma, Naomi, wat later sonder waarskuwing langs hom by die tafel inskuif met haar

onnutsige bremerblou oë. Alewig op skrefies. Hy kan ruik sy het skelm gaan rook en dit dra beslis nie

Abraham, haar ou man, se goedkeuring weg nie.

Oor sy dooie liggaam.

1
Sy bestudeer kwansuis haar hand (hulle speel kaart); almal weet sy verneuk. “O, tjorts,” sê sy

speels.

“Hoekom sit jy nou daar, Ma?” vra Abraham, meteens ongedurig.

“Ma’ my maggies, Braam, ek kan seker sit waar ek wil. Ek sit langs my aanstaande

skoonseun.”

Sy fluister geheimsinnig in Isak se regteroor: “Jaloerse ou man.”

Hulle lag stil en Abraham se grys wenkbroue lig ʼn aks.

Daar volg ʼn obiter opmerking oor Naomi se plek en haar beurt en hoe die onreëlmatigheid

moontlik die uitkoms van die spel kan beïnvloed. “Jy weet Isak,” vervolg Abraham dan prekerig, “ek is

van die eerste Afrikaners wat in die destydse ... wat is die plek se naam nou weer? Ag, wag, ek sal

net-nou onthou ... ʼn apteker geword het. Die Jode wou nie die Afrikaners ...”

“Blikssssskottels ... hier gaan hy al weer,” knip Naomi sy draad kort. “Hoeveel keer wil jy nog

daai storie vertel?”

Hulle kyk mekaar koeltjies aan.

Reuben maak gebruik van die geleentheid. “Isak, sal jy my nou-nou help om ʼn TV in my

bakkie te laai?”

Isak knik inskiklik. “Ja, geen probleem nie.” Hy sit sy kaarte voor hom neer. “Verskoon my, ek

moet gou ʼn draai loop ... en moenie op my kaarte kyk nie.”

Naomi lag uitgelate.

“Gaan hierdie pot ooit ʼn einde kry?” kla Ragel verveeld.

2
Isak skrik so effens toe hy die badkamerdeur oopmaak en Abraham hom klaarblyklik ingewag

het, tot sy volle lengte gestrek, knopperig en kordaat. “Moenie dink ek sien nie wat hier aangaan nie,

Isak,” verwyt hy nydig.

“Ekskuus, Oom?” vra Isak uit die veld geslaan.

“Jy en my vrou,” sê hy afkeurend, “ek sien hoe jy met haar flankeer.”

Isak kan homself nie help nie, hy grinnik wyebek. Sprakeloos. Hy kan nie wag om vir Ragel

hiervan te vertel nie.

“Hei, Isak!” roep Reuben, “kom sit gou hand by asseblief.”

“Verskoon my,” sê Isak beleefd.

Ongeveer vyf minute later en met beide sy hande stewig onder die Sony trek iemand

onverwags van agter ʼn meelsak oor Isak se kop. Toe hy Reuben hoor skaterlag en Ragel floutjies hoor

sê: “Sterkte my liefie ...”, besef Isak wrewelrig hy is teen wil en dank op pad na ʼn ramparty.

Onsigbare hande vat die toestel by hom. “Mens kruip nie vir die reën in ʼn rivier weg nie,”

merk Abraham droog op.

Isak se polse word onder luide toejuiging agter sy rug styf vasgebind.

Slang, dink Isak afgehaal. Delila.

***

Per geleentheid as hulle by ʼn verkeerslig op die hoofpad moet stilhou, hoor hy Reuben laggend aan ʼn

motoris verduidelik: “It’s just his bachelors.”

“Suffer baby, suffer!” is een se ironiese kommentaar.

Soms, as die sonlig net reg val, ontsluier die wit meelsak van sy geheime en kan Isak vaagweg

ʼn gaasagtige beeld van sy toekoms uitmaak. Ou Abraham sit links voor langs Reuben en ʼn

3
opgewekte, onbekende stem behoort aan iemand reg langs hom wat doodeenvoudig nie vir langer

as ʼn minuut kan stilsit nie. Hulle gesels land en sand en Isak word genoodsaak om ʼn derde keer te

erken dat hy dít nooit sien kom het nie. ʼn Aangename verrassing.

Hy voel ellendig. Wat ʼn faghapi. Delila!

Iewers in die omgewing van Muldersdrift draai Reuben die rooi Ford-dubbelkajuit links op ʼn

plot se dubbelspoorpaadjie en gee die bakkie vet teen die eskarp tot by ʼn vriend van ʼn vriend (ʼn

swierbol of bon vivant) met geld se huis.

Die bakkie kom tot stilstand en die meelsak word kort daarna sonder ʼn omhaal van woorde

en onder luide applous van sy kop afgepluk. Isak weet nie waar hy is nie; in ʼn tipe binnehof wat aan

die oorkant op ʼn oop stuk veld uitkyk. In die verte blaf groot honde en hy hoor ʼn besige pad. Tussen

twintig en dertig mansgesigte drom in die trop voor hom saam. ʼn Horribile visu. Die helfte ken hy van

geen kant af nie ‒ sekerlik als die maltrap se toedoen. Hy herken een of twee vriende wat saam met

hom werk en eenkant staan sy pa met ʼn flegmatiese glimlag op sy gesig.

“Hallo, julle almal,” groet Isak inkennig.

“Laat hy sy nuwe broek sien, Pa!” roep Reuben met ʼn sketterstem.

Abraham staan glimlaggend, met die goiingsak wat ruweg tot ʼn bont Josefsbroek omgewerk

is, nader.

“For he’s a jolly good fellow ...” sit ʼn tenoor wat die konglomeraat van testosteroon nie

langer kan verduur nie, vals uit die agterbank in.

ʼn Selfbewuste, senuagtige laggie klink op ‒ ʼn wanklank.

“Ag nee ... Isak, is jý die stripper?”

Isak grinnik en as hy hom wil teësit kry hulle hom marsiaal om die bo-arms beet en sy klere

word in ʼn ommesientjie van sy lyf gestroop en met die goiingsak vervang. ʼn Tou met ʼn skuifknoop

4
om die broek bo te hou word om sy heupe gebind. Dit jil, lag en fluit soos by ʼn ontkleeklub aan die

Weskus. Hy wil eers oor die koue protesteer, maar besluit teësinnig om tog ʼn rukkie saam te speel.

Van die bebaarde gesigte is in kakie, kortbroek en kortmou. Kortgebaker. ‘What you resist persist,’

het hy iewers gelees.

Isak se versoek om sy hande los te maak word met luide teenkanting begroet.

“Bring die beker nader!” gelas Paulus van Wyk, ʼn rysige, senior vennoot by die regsfirma

(waar Isak en ʼn hele paar ander werk) met ʼn grimas. Isak glimlag skynbaar geneë en speel gedwee

saam wanneer die reusebeker, wat soos ʼn spoeltoilet lyk, intimiderend voor sy gesig gehou word.

Algemene goedkeuring en ʼn opgewonde gelag klink op.

“Sakkie, ons het spesiaal vir jou ʼn ou drankie voorberei,” verklaar Van Wyk (wat oënskynlik

[minstens tydelik] beheer van die ramparty oorgeneem het) hoogdrawend. “Kom drink, jou hubare

bliksem!” Ondertussen het die prisonier se sipiere ook aangegroei. Isak se kop word hardhandig

agteroor gekantel en die toilet se inhoud oor sy oop mond uitgekeer. Hy sluk vir al wat hy werd is.

Donker drank loop oor sy wange, drup teen sy nek af en vloei in spoortjies oor sy bors.

Heksebrousel!

Harde drank ... Isak weet hy sukkel om alkohol te hanteer. Sy oë traan en die aanwesiges

jubel tevrede. “Dit was lekker, dankie. Sal julle my nou losmaak, asseblief? My arms brand al ... en dit

raak vrek koud.”

“Wat! Nee, fok jou.” Van Wyk weet dit is nie wat jy sê nie, maar hoe jy dit sê. “Wat sê julle?”

Gekunstel.

“Nee!!!” In de gees van die esprit de corps.

“Manne, sal almal asseblief ʼn lassie maak vir ons aanstaande bruidegom? Pis ʼn ruimskootse

skeut hier in sy toilet. Ha-ha!”

5
Hy word op die skouer geklop. “Gevleuelde woorde!”

Alkohol van onbekende oorsprong en allerlei kleure word onder groot gelag ad nauseam in

die toilet se oop deksel geskink en weer word Isak se kop onder protes agteroor geknak sodat hy kan

sluk.

Hy drink desperaat en bid dat hierdie beker hom ʼn volgende ronde sal verbygaan.

“As die vuur reg is, moet ons braai sodat ons reg is vir die game,” kom kondig Reuben aan.

“Dis amper tyd. Hei ou swarrie, hoe smaak hy?” Hy tree vinnig vorentoe en dra van nuuts af mildelik

tot die toilet by.

Van die mans drentel ʼn entjie weg en begin luidrugtig gesels oor die referendum, Nelson

Mandela se vrylating en aantuigings van ʼn chicken run onder die wittes na groener weivelde. Sake

van die dag.

Isak skep moed. Small things amuse small minds.

“Donasies! Donasies!” roep Saulus (wat Paulus geword het) van Wyk.

En dan!

Teen alle verwagting in.

Besef Isak meteens dat hy buitengewoon merkwaardig oor homself begin voel. Net so! Om

die waarheid te sê geniet hy meteens al die aandag en die ongeborge vryheid wat ʼn goiingbroek kan

meebring. Vrypostig. “Fokkit, kry ʼn man dan nie ʼn dop in hierdie plek nie?!” lag hy dat jy net tande

sien skitter en die klein groepie omstanders is ewe in hul skik met sy nuutgevonde optimisme.

Van Wyk is weer die voorbok; hy neem die voortou, ʼn bok vir sports van all sorts.

Isak bied hierdie keer vrywilliglik sy mond aan, so wyd as wat hy moontlik kan, kake gapend

oop en die sappe begin vloei. Dit loop oor sy ken en drup op sy kaal voete. Tot die laaste druppeltjie.

En dan trek Isak meteens en onverwags teen die spoed van die heilige wit eland weg en hardloop al

6
laggend, kniekoppe omhoog met sy hande agter sy rug gebind deur ʼn opening en kry koers veld se

kant toe.

Die wildewegholstuipe. Hy lê uitbundig rieme neer. ʼn Spektakel. Enfant terrible.

“Waar fok hy nou heen? Hei keer daai ou dis my suster se man ... aanstaande man!”

Isak slaan neer en bly roerloos lê. Die vaal bosveldgras steek soos tandestokkies en krap fyn

rooi hale oor sy kaal bolyf.

Hy weet min daarvan.

Die ooggetuies skater van die lag.

Will you ride the great white bird into heaven / And though you want to last forever / You

know you never will, sing Cat Stevens.

ʼn Paar van die jongeres gaan trek sy broek reg, stof hom halfhartig met die plathand af en

bring hom soos ʼn gevangene terug binnehof toe.

Die goiingsak wil nie langer bo bly nie.

“As jy weer weghol, klap ons jou ballas warm,” dreig Van Wyk laggend met ʼn rooi gloed oor

sy wange.

“Fok jou, man,” sê Isak nonchalant.

“Bêre jou totterman,” roep ʼn onbekende stem.

“My hande isj vas ...”

Iemand staan nader en bind die tou om sy heupe styf.

“Ek dink ons moet van hom ʼn ossie maak,” hoor Isak sy pa se stem vanaf die stoep, “ ʼn rekkie

omsit. Waar’s my tang?”

Isak frons, skud sy kop verbysterd.

7
“Speech, speech, speech!” word daar nou luidkeels aangedring en Isak word onwillekeurig

teen die trappe opgestoot tot op die stoep waar die volgende tafereel afspeel.

“Kruisjig hom!” koggel Isak smalend en gluur deur ʼn waas na die onpeilbare uitdrukkings

onder hom, doodsbleek om sy kieu. “Kruisjig hom! Ja-ja-ja ... lekke! Lekker man! Hallo almal en

welkom ook aan al Sjantam of Sjanlam of waddefok sje persjoneel ook nou by ons regsjfirma. Julle

almal wat mekaar sje ruggies bliiiink vryf en mekaar afsjuig sosie Yersjinia pestjis in ʼn vlieg se gat ...

fokken dosje.” Vir ʼn oomblik lank lyk dit of Isak sy balans gaan verloor, maar hy herstel

wonderbaarlik. “Welokom! En ... baie dankie! Welkom! En jy sjkelm Brink, elke ertappel wil ʼn moer

mosj ʼn moer weesj ...” ʼn PW-vinger draal dreigend op onvaste koers deur die lug, vind ʼn volgende

teiken.

“Lekker is net ʼn vinger lank,” sê iemand onder ʼn groot gelag.

“Van Wyk vat my mosj saam na sjy huisj toe en laat my daar in die sjitkamer wag ... wat doen

hy sjo lank daar in sjy kamer ... sjuig jy jousjelf af? Hu?” ʼn Hoonlag ontsnap diep vanuit Isak se keel.

Hy staar kortstondig, asof ingedagte, hemelwaarts. “Julle ... julle ... sjpeel vir hom Radiohead sje

Creep!”

Spoegdruppeltjies en sweet, seker van die hardloop, glinster soos blink kristalletjies oor sy

bleek gelaat.

Sonder om langer te aarsel word daadwerklik opgetree.

“Wow ... oukei-oukei, kry hom daar af!”

“Oukei ou grote ... kom saam,” sê ʼn vriend, “dis oukei, ons het hom.”

Meer hande kom by.

“Nee, wag julle nou. Dis genoeg,” skerm ʼn kollega.

8
“Nee-nee.” Biseps bult. “Hy moet gestraf word.” Bruusk. “Wat kyk jy my só? Dis alles net ʼn

bietjie pret, my ou.”

Strak kyke word gewissel.

Isak word onder sy oksels van die stoep gehelp en die masker weer oor sy kop getrek.

“Jy wil mos kom kak praat, jou bliksem ... kom, leopard crawl!”

“Diknek!” skel Isak.

Sterk hande druk hom grond toe. Hy kry ʼn paar skoppe op die gat en Van Wyk glimlag

tevrede as sy donkiewerk gretig gedoen word.

“Hei, boys! die game gaan begin!” skree Reuben deur die sitkamervenster.

Isak word inderhaas buite die binnehof op ʼn stoel vasgemaak. Geostraseer. Sy bewussyn

begin onder hom meegee, hy glip-glip-gly die swart newelryk binne. Binne kyk die groep luidrugtig

rugby, dit is die Leeus teen die Blou-Bulle. Buite blêr musiek. Vergete. Treffers van die tyd:

The Power ‒ Snap!

U can’t Touch this ‒ MC Hammer

Thunderstruck ‒ AC/DC

Isak verbeel hom miskien later ʼn gesprek naby aan hom in die skemerdonker, maar kry nie sy

kop opgelig nie: Die verstand is bloot ʼn opvangsmeganisme soos ʼn radio of TV, maar op beperkte

wyse interaktief met die sender. Die brein stoor nie die geheue nie; voortgesette lewe setel by die

sender. Verstaan jy?

Praat jy met my? wil Isak vra, maar daar kom nie ʼn geluid by sy mond uit nie. Hy dink iemand

raak aan sy skouer.

What’s up? ‒ 4 Non Blondes

9
Karre vertrek. Die son sak.

Buite die ligkring sit Isak bewusteloos in die donker en bibber.

***

“Isak. Isak, hier is vir jou ʼn Prohep.”

ʼn Hand trek die masker van sy gesig af, klap aan sy bevrore wange en ʼn flitsliggie skyn

dowwerig van bo op hom.

Isak knipper sy oë.

“Move to the light,” sê hy aangeklam voor hy die pil en water gehoorsaam sluk en bykans

onmiddellik ʼn stroom kots vomeer.

Sy hande glip los agter die rugleuning.

“Jirre, jy sit hier soos ʼn politieke gevangene in ʼn koue sel. ʼn Hermiet.”

“Ek voel siek ...” Sy stem klink soos die van ʼn ander, vanuit die diepte van ʼn treintonnel kom

Isak aan en glip terug in sy lyf.

“Gooi op. Ja, dis goed. Laat al die drank uitkom. Ek kan nie glo wat hulle jou alles ingejaag het

nie.”

Isak beleef ʼn terugflits ‒ in blekerige Kodachrome ‒ van hom saam met die bure se kinders in

Edenvale ‒ almal kaalbas in die swembad. Hulle ouers is by die werk. Hoe vry en onskuldig het hulle

nie gevoel nie.

“Dankie. Dankie (wartaal) ... ʼn protégé.”

“Gaan trek vir jou warm aan. Gaan. Dis soontoe,” sê die stem. “Dis reg.”

Isak strompel sonder teenkanting na die lig toe, swartgallig; kyk om ‒ wonder meteens

beneweld of dit sy pa se stem was ‒ maar sien niemand in die donker nie.

10
***

“Fokkit! Isak... Ek het skoon van jou vergeet! Jammer, ou pel. Jy is net hoendervleis ...”

Die verbaasde skok op Reuben se gesig lyk opreg genoeg. Hy gryp Isak styf om sy lyf vas.

“Waar is die ou se klere?!” Nog ʼn verbaasde uitroep volg.

Hande maak die tou besorg los en trek sy goiingbroek versigtig af.

“Kyk, hy’s nou ʼn dogtertjie.”

Niemand lag nie. Isak staan klappertand. In ʼn ommesientjie word hy van kop tot toon geklee.

Hy kyk oorbluf om hom rond, voel hoe die hitte terugkeer na sy lyf; van die trop is daar nou so vyf

oor.

“Hoekom?” vra hy met sy oë rooi van ontsteltenis.

Ons ... dit het dalk bietjie hand uitgeruk. Dalk al die adrenalien voor die wedstryd, is die

algemene konsensus.

“Luister, wat nie doodmaak nie, maak sterk,” redeneer Reuben aangeklam. “Jy het oorleef,”

glimlag hy. “Dis al wat saak maak. Veels geluk, pel! Welkom in die familie. Jy moet weet ons is lief vir

jou. Jy is nou een van ons, my broer.” Reuben talm. “Ek hoor jy het jou baas erg beledig ... jy sal hom

om verskoning moet vra.”

“Mea culpa!” roep Isak ontredderd.

Reuben sit sy hand gemoedelik op Isak se skouer. “Goeie nuus ... die Leeus het gewen!” Hy

swaai skielik om, “verskoon my ek moet gaan pis.”

Hy drafstap kleedkamer toe.

“Ragel gaan my doodmaak as sy hiervan hoor ...” bulder sy stem uit die gang voor ʼn deur

sidderend toeklap.

11
Abraham loop afgemete tot voor Isak. Isak kyk wrokkig in die abominasie se rokerige grys oë.

Hulle is alleen in die ruim vertrek met die TV nou sag op die agtergrond.

“Ou seun,” sê hy prekerig, “jy weet ... oor wat vroeër vandag gebeur het tussen jou en Naomi

toe ons kaart gespeel het ... ek meen hier jou flankeerdery met my vrou ... dis verkeerd, maar ek het

besluit om jou te vergewe.”

12

You might also like