You are on page 1of 421

Romanza 3 in 1

1. Doodgewone wonderwerk

Thea Holland

2. Tussen twee vure

Annetjie van Tonder

3. Sprokie vir 'n Bosnimf

Vera Wolmarans

DOODGEWONE WONDERWERK

THEA HOLLAND

www.lapa.co.za

EEN

Dis haar hare wat Elizabeth laat besluit die lewe is nie regverdig nie.

Alles was eers so maklik, dink sy gefrustreerd. Maar nou lyk sake anders.

Haar geldsake ook.

Sy kyk met ’n vae gevoel van verontregting na die vorm wat mevrou Steyn
invul.

Sy kan amper alles hanteer wat die afgelope drie jaar met haar gebeur het.
Dit het haar byvoorbeeld nie gepla dat haar pa weer getrou het nie. Dis wat
wewenaars doen. En toe haar halfbroertjie so kort voor haar pa se dood
gebore is, het dit nie die minste saak gemaak dat die landgoed nie meer aan
haar bemaak sou word nie, maar aan hom. Seuns erf plase. Behalwe natuurlik
seuns soos haar ouboet Ruben, wat nie wou boer nie, lankal ’n sjef is en in
Frankryk woon. En dis ook nie dat sy reken geld is so belangrik nie – sy het
nog net nie uitgewerk hoe om daarsonder klaar te kom nie.

Maar wat sy glad nie kan hanteer nie, is dat sy haar kuif vanoggend met ’n
naelskêr moes versnipper omdat sy nie meer ’n ordentlike haarsny kan
bekostig nie. Hier sit sy nou in mevrou Steyn se agentskap vir tydelike
werkers, met te veel hare en te min geld, en op die landgoed draf haar
halfbroertjie rond, amper twee jaar oud en sonder sorge, want hy het
oorgenoeg geld en heeltemal te min hare om hom oor haarsalonne te
verknies.

Dis hoe onregverdig die lewe is.

Mevrou Steyn se plomp wysvinger verskuif op Elizabeth se


identiteitsdokument. Die fotostaatmasjien in die vertrek langsaan bliep en
ruis.

Dis vandat sy die vorige jaar van die landgoed af weg is dat alles so
skeefloop, dink Elizabeth bygelowig. Maar hierdie gedagte keer sy. Sy wil
haar eie lewe lei. En as dit dan ’n fout was om weg te gaan, was dit hoog tyd
dat sy haar eie foute begin maak. Miskien net nie so baie daarvan nie. Of
sulke dures nie … Die bankbestuurder is reg. Sy was nie versigtig met haar
erfgeld nie.

Sy wikkel haar voet ongeduldig.

Aan die ander kant, bankbestuurders weet ook nie alles nie. Is dit dan nie

genoeg dat sy die huurkontrak van haar mooi dakwoonstel in Clifton opgegee
en by haar vriendin Katrien ingetrek het nie? En sy koop ook feitlik niks
meer nie. Die man het eenvoudig te ver gegaan toe hy sê sy moet haar nuwe
motortjie verkoop en die geld verstandiger bestee, en dis hoekom sy opgehou
luister en geloop het. Hy is nie net taktloos nie, hy is kortsigtig. Hoe dink hy
moet sy werk soek sonder die Porsche? Met ’n minibustaxi miskien? Hy kan
sy ou lening hou.

“So ja,” onderbreek mevrou Steyn haar gedagtes met ’n moederlike glimlag
en hou Elizabeth se identiteitsboekie na haar toe uit. “En nou,” sy skuif haar
bril reg en skeur haar blik los van die saffier aan Elizabeth se vinger, “jou
kwalifikasies?”

“Matriek,” sê Elizabeth. Verdere studie sal inbreuk maak op haar partytjietyd,


het sy destyds gelag. Nou lyk haar gevatte antwoord kinderagtig.

Mevrou Steyn maak ’n aantekening. “Ervaring?” vra sy.

Elizabeth aarsel. Sy het ervaring. Sy het die afgelope drie maande altesaam
vier permanente betrekkings beklee wat die een na die ander in ’n woedebui
en ’n afdanking geëindig het. Hoewel sy by party darem self bedank het. Dis
tog hoekom sy tydelike werk soek – sodat sy nie tyd het om alles op te mors
nie.

“Ek het baie onlangs eers tot die arbeidsmark toegetree,” antwoord sy ferm.

Mevrou Steyn kyk na die vorm. “Jy is twintig jaar oud. Ná matriek moes jy
tog iewers gewerk het, hartjie?”

Hartjie? Elizabeth se verbaasde blik moet koeler gewees het as waaraan


mevrou Steyn gewoond is, want dié se vaalblou oë knip en haar mond vou
kleiner.

Wat moet sy sê? Sy kan tog nie uitblaker dat dit nooit nodig was dat sy werk
nie. Altans, nie voordat haar erfgeld so onverklaarbaar opgeraak het nie.

“Ek het ’n rukkie lank skoonheidsprodukte verkoop. Grimering, naellak …

dié soort ding,” beken sy onwillig. Die res verswyg sy liewer.

“Hoe lank?” vra mevrou Steyn.

“’n Week … en ’n half,” sê Elizabeth.


Dit is ’n antwoord wat mevrou Steyn nadenkend oor haar brilraam laat tuur.
“Het jy ’n getuigskrif gekry?”

“Nie daaraan gedink om een te vra nie,” erken Elizabeth. Daar was nie juis

’n geleë oomblik nie. Nie nadat sy aan die bestuurder verduidelik het waar hy
sy werk, en sy goedkoop naellak, kan insteek nie.

Mevrou Steyn skuif die vorm netjies haaks op die lessenaar, klik haar
bolpuntpen sodat die punt verdwyn en sit dit neer. “Vaardighede?” vra sy
sagkens. “Is daar enigiets waarmee jy goed is?”

Iets waarmee sy goed is. Vaardighede. Elizabeth kyk fronsend op na die


zoemende buislig bokant die lessenaar. “Ek … het ’n rybewys, en …”

“Ek praat van werkverwante vaardighede. Soos rekenaarvaardighede, jy


weet? Kan jy met ’n rekenaar werk?”

Niemand het al ooit só met haar gepraat nie. Nie eens terwyl sy afgedank
word nie. “Ek tik my vriendin se geskiedenisvraestelle,” sê sy vies. In ruil vir
die huur wat sy nie kan betaal nie, maar dit hoef mevrou Steyn nie te weet
nie.

Die bolpuntpen klik. “Basiese rekenaarvaardighede,” skryf mevrou Steyn


stilswyend op die vorm. Sy frons asof sy ’n kortstondige tweestryd met
haarself voer, maar dan sug sy en maak ’n vaal lêer oop. “Wel,” sê sy, “ons is
genader deur ’n skrywer wat sy arm gebreek het. Hy soek iemand wat ’n
geldige rybewys het, sy nuwe manuskrip kan tik en sy huishouding kan
behartig. Sy huishoudster het bedank. Dis net totdat hy Amerika toe vertrek
op ’n bekendstellingstoer vir een van sy vertaalde werke.”

Nou ja, sy kan beslis bestuur en enige aap kan ’n besem vashou. “Met ander
woorde, ek moet tik, sy huis skoonmaak en hom rondkarwei.”

“En kook,” sê mevrou Steyn.

“Kook,” herhaal Elizabeth. Dis nou vir jou ’n ding. Maar solank daar ’n
pizzaplek in die rondte is, is dit ook nie die ergste nie.
“Dis ’n ietwat ongewone kombinasie van vaardighede. Stel jy belang in ’n
onderhoud?”

“Ek sal daaroor dink,” sê Elizabeth.

Mevrou Steyn lyk nie meer so moederlik nie. “Moenie te lank dink nie.

Die onderhoud is oormôreoggend om halftien.” Haar oë vee oor Elizabeth se


ontwerpersklere. “As jy hoegenaamd wil werk, skakel my voor vyfuur
môremiddag.” Sy skryf op ’n besigheidskaartjie wat sy oor die lessenaar
skuif. “Hier is die besonderhede,” sê sy saaklik. “Totsiens, juffrou
Devereux.”

In die winkelsentrum se wandelgang ontdek Elizabeth sy het haar handsak


langs die stoel vergeet, en draai terug. Sy is net betyds om te sien hoe mevrou
Steyn haar vorm heel onder ’n stapeltjie ander vorms sit. Onder ’n lêer. Wat
onder ’n telefoongids lê. Dis duidelik dat sy nie gedink het sy sal ooit weer
van Elizabeth hoor nie. Aangesien die kaartjie nog net daar op die lessenaar

lê, is dit geen wonder nie. Woordeloos tel Elizabeth haar handsak op, prop
die kaartjie onderin en stap uit.

Sy gaan sit op die naaste bankie. Mense stroom verby haar, maar sy sien
hulle skaars raak. Is dit regtig die moeite werd om vir alle praktiese
doeleindes ’n bediende te word? Sy twyfel sterk. En mevrou Steyn twyfel
klaarblyklik ook – aan haar vermoëns, haar ywer, haar erns … Almal sê sy is

’n loskop wat nooit op haar eie bene sal kan staan nie, en hulle is seker reg.

Sy het nog niks gedoen wat enigiemand van die teendeel sou oortuig nie. Ook
nie haarself nie.

Wel, die onderhoud was nie ’n dawerende sukses nie, maar dis darem al ’n
begin. Sy haal haar beursie uit om te kyk of sy genoeg kleingeld vir koffie
het. Daar is ’n vyfrandstuk, ’n rand … haar hand verstil. In die besige
winkelsentrum hoor sy ’n stem wat sy ken. Onmoontlik, dink sy en lig haar
kop.
En dan sien sy hom. Vir Simon.

Verbaasde blydskap bruis in haar op. Sy wil opspring en roep, maar daar is
iets aan die manier waarop hy sy kop gebuig hou wat haar keer. Langs hom
stap ’n meisie. Sy praat met fladderende gebare wat niemand toelaat om haar
verloofring mis te kyk nie. Hulle slenter op hulle tyd in haar rigting.

“’n Wittebrood in Bali klink wonderlik, Linette,” hoor sy hom sê. Hulle is net
treë van Elizabeth af.

“Ai, Simon.” Linette trek aan sy arm sodat hy na haar toe draai. Sy baadjie,
wat los oor sy skouers gegooi is, begin afgly en hy vang dit met ’n snaakse
lomp beweging met een hand vas, asof hy nie die ander hand wil gebruik nie.

Linette staan op haar tone en soen hom. Talmend. Elizabeth kan nie wegkyk
nie, al wil sy.

“En dit?” glimlag Simon toe Linette met ’n sagte sug, wat Elizabeth nogtans
duidelik hoor, haar kop laat sak.

“Ek sê maar net dankie,” sê Linette heserig. “Sommer vir alles.”

Elizabeth moet ’n beweging gemaak het, al sou sy kon sweer sy het roerloos
bly sit, want Simon kyk vlugtig oor Linette se kop asof iets sy aandag trek en
sien Elizabeth raak. Daar is geen herkenning in sy oë nie. Sy blik glip terug
na die meisie en terwyl hulle verby die bankie stap, gee hy ’n antwoord wat
Elizabeth nie kan hoor nie. Regoor die uitgang lag Linette stralend en stap
buitetoe; Simon draai om en raak tussen die mense weg.

Hoe lank sy daar bly sit met die beursie in haar hand en haar kop gedraai na
waar sy hom laas gesien het, weet Elizabeth nie.

So. Simon is verloof. En hy ken haar nie meer nie.

Dis seker nie so vreemd nie. Sy sien gereeld sy gesig op die agterblaaie van
die blitsverkopers wat hy skryf, maar hy het haar laas gesien toe sy elf jaar
oud was, die dag toe Ruben na Frankryk vertrek het.

Maar dit moet sy erken: Daar is iets omtrent Simon. Want die oomblik toe sy
sy stem hoor, raak haar asem op en is sy weer net die bedorwe
rykmansbrokkie van La Fontaine wat alles kon kry wat haar gierige hartjie
begeer, behalwe vir Simon. Sy glimlag skewerig. Êrens in die halfvergete
wegsteekplekkies van haar hart het hy haar eerste groot liefde gebly, die held
wat haar voor hom op die vurige Arabier van die landgoed se stalle sou tel en
haar wegvoer na ’n betowerde land van ys en wilde storms.

Intussen het hy iemand anders opgeraap en na ’n voorstedelike adres gegalop.

Sy stap uit na haar motor toe. Simon is ’n dagdroom. Dis al wat hy ooit was.
En sy is nie meer elf nie.

In die nanag word sy wakker. Sy lê en luister na die reën en die wind, wat ná

’n rukkie amper soos ’n fluisterende manstem klink. Soos ’n sagte uitroepie.

En ’n … kreun van genot? Sy frons en luister weer. Is dit Katrien? En toe


hoef sy nie meer te wonder wat sy hoor nie.

Haastig trek sy die duvet oor haar ore, en toe dit ook nie meer help nie, steek
sy haar kop onder die kussing in. Katrien se verhouding met haar
prokureursvriend het vanaand uiteindelik die punt bereik waar mens
privaatheid soek.

Hier kan sy ook nie veel langer bly nie.

Sy kreun mismoedig. Wat nou? Waarheen nou? Dit sou so maklik wees om
oor te gee, om môreoggend in haar motor te klim en huis toe te gaan.

Haar stiefma het gesê haar kamer sal altyd daar wees vir haar, sy moet net
kom, sy hoef nie eens te laat weet nie.

Sy kan teruggaan, ja, dink sy suur. Dan hoef sy nooit weer ’n telebemarker te
wees wat die foon in ’n onbeskofte kliënt se oor neergooi of ’n kelnerin wat
’n bord spaghetti op ’n vatterige man omkeer nie. Sy hoef nie met
onderhoude te lol nie. Sy kan na haar ou kinderkamer terugtrek en met haar
boetie speel en perdry en kaalvoet in die bergstroom stap.

En dis net mooi wat almal van haar verwag.


Sy sug. Sy sal mevrou Steyn bel en sê sy is beskikbaar vir die onderhoud.

Daar is te veel herinneringe waaraan sy te lank bly klou het. Want dit is wat
sy vaagweg begin verstaan het toe sy Simon vandag gesien het. Hy het so
dikwels by Ruben gekuier dat hy so te sê deel was van La Fontaine. Maar
Ruben is weg; Simon is verloof. En met haar pa se dood het die La Fontaine
waarna sy so verlang ’n droomlandskap geword wat onherroeplik tot haar
kinderdae hoort.

Dis tyd dat sy wakker skrik en grootword. Sy sal werk soek by die ellendige
skrywer wat sy … arm gebreek het … wat sy baadjie los oor die skouers
behoort te dra omdat die mou te nou sal wees vir die gips …

Uiteindelik registreer dit by haar presies wat sy gesien het toe sy na Simon en
sy verloofde gekyk het. Sonder om haar verder te steur aan die geluide wat
uit Katrien se slaapkamer kom, duik sy onder die duvet uit en skakel die
bedliggie aan. Koorsagtig delf sy in haar handsak en haal mevrou Steyn se
besigheidskaartjie uit.

Simon Rousseau, lees sy. En ’n adres in Welgemoed.

Die onderhoud is met Simon.

Simon gooi nog ’n wingerdstompie op die kaggelvuur. Buite dreun die bome
in die stormwind en die reën word in harde vlae teen die ruite aangedryf.

Hy skink nog rooiwyn en stel ’n stille heildronk in op Linette. Hy het


vanoggend opgelet sy is effe spyt sy hart is nie gebreek deur haar
aankondiging dat sy met Hein gaan trou nie. Heimlik was hy verlig. Hulle
albei het gekry presies wat hulle wil hê. Sy ’n man wat bereid is om ’n ring
aan haar vinger te steek, en hy ’n verhouding met ’n perfekte einde –

niemand sleep hom kansel toe nie en almal bly vriende.

Hy glimlag wrang en staar na die vuur. ’n Bietjie vog borrel en sis uit ’n
kraak in die vuurhout en kook in die vlamme weg.

Heeldag al is daar ’n ontwykende gedagte, ’n gesig wat hy skrams in die


winkelsentrum gesien het.

Ruben se sustertjie, onthou hy. Dis aan wie die meisie hom laat dink wat hy
vandag raakgesien het net voor of ná Linette se roerende afskeidsoen.

’n Ou herinnering is meteens weer helder in sy gedagtes. Hy en Ruben het


tussen die populiere uitgestap en die kind en haar skimmelperd in die wit
mistigheid sien staan. Een hand op die dier se nek. Hy onthou haar reguit
kyk, haar vreemde, helder oë, soos skoon reënwater wat in grys klip opgedam
lê. Swart hare met die klammigheid van die mis daarin. Iets uit ’n sprokie.

Miskien kan hy dit iewers in ’n boek gebruik. As hy ooit weer enigiets


geskryf sal kry.

Hy sug. Miskien moet hy ’n slag ’n doodgewone riller aanpak, met die kind
en haar perd wat tot die bonatuurlike hoort. Spoke. Soos wat hulle inderdaad
is. Die dogtertjie wat hy onthou, bestaan nie meer nie. Sy het lankal
grootgeword en is na alle waarskynlikheid net so listig en vol houdinkies
soos Linette.

TWEE

Dis halftien en Elizabeth kook van frustrasie. Sy is laat. Die een of ander
idioot het die dag opgevrolik deur ’n padversperring in die linkerbaan op te
rig, en toe het nog ’n idioot terstond in een van die dromme vasgery en die
verkeer kilometers ver laat opdam.

Dis al kwart oor tien toe sy in Welgemoed aankom en nog ’n kandidaat vir
die pos in die sitkamer ontdek. Wonderlik. Sy het aanvaar sy is die enigste
een met ’n onderhoud. Agter in die huis hoor sy ’n deur oopgaan en kry haar
verskonings gereed. Dis egter nie Simon nie, maar ’n dogtertjie wat in die
deur verskyn en nuuskierig na Elizabeth se handsak kyk.

“Wat is daarin?” eis die kind.


“Husse,” grinnik Elizabeth.

Kort daarna begelei Simon ’n goedbedeelde blondine in die gang af verby die
sitkamer, sê vriendelik hy sal haar bel om te sê of sy die pos gekry het, en

’n swanger vrou stap die vertrek binne net mooi toe die kind op Elizabeth se
skoot klouter met die handsak in haar hand. Naomi, eien Elizabeth haar ná ’n
oomblik. Simon se suster.

“Jy het beslis ’n slag met kinders,” sê Naomi vriendelik. “Juliette klim nie
sommer op enigeen se skoot nie.”

“Sy is te oulik,” glimlag Elizabeth. “Jammer ek is laat, maar hulle werk aan
die pad en daar was ’n ongeluk.”

“Toemaar,” stel Naomi haar gerus. “Die ander drie was vroeg. Jy sal mos nie
omgee as ek Juliette by jou los tot ons met die ander onderhoud klaar is nie,
nè?”

“Nee wat, dit sal …”

“Kom,” gebied Juliette en knyp die handsak stewig onder haar arm vas.

“Ons gaan tuin toe.”

“Dit sal ’n plesier wees,” roep Elizabeth laggend oor haar skouer en draf
agter Juliette aan.

“Simon is in ’n bui,” lig Naomi haar in toe sy haar later in die tuin kom haal.

“Maar moenie dat dit jou pla nie. Hy is sommer net ’n swak verloorder.”

“’n Wat?” vra Elizabeth uit die veld geslaan. Maar hulle is reeds by die
studeerkamer en Naomi stap haastig binne.

Elizabeth het dringender probleme as Simon se buie. Hoe stel jy jou bekend
aan iemand wat jy ken? En hoe gaan sy die grasvlek op haar langbroek
wegsteek? ’n Selfversekerde houding sal moet opmaak vir hoe sy ná ’n
halfuur in Juliette se geselskap lyk. Sy kam vinnig met haar vingers deur haar
hare voordat sy Naomi volg.

Simon draai weg van die venster en stap na sy lessenaar, maar toe hy
Elizabeth sien, steek hy vas en kyk deurdringend na haar. Hy lyk eerder moeg
as buierig. En sy gebreekte arm, met die gipsverband onmiskenbaar onder sy
dik trui se mou, laat hom eerder hard en moeilik lyk as hulpeloos. Hy is baie
informeel aangetrek, waarskynlik omdat hy nie ritssluiters en veters met een
hand kan baasraak nie; nogtans vul sy teenwoordigheid die vertrek. Irritasie
hang soos ’n kragveld om hom.

“Goeiemôre. Ek het aanvaar jy kom nie meer nie,” sê hy. Hy is baie


onvriendeliker as toe sy hom by Linette gesien het.

“Sy kon dit nie help nie, Simon, daar was ’n ongeluk,” sê Naomi voordat
Elizabeth kan verduidelik.

Simon se oë vernou.

“Goeiem… nee … ek bedoel, jammer,” stotter Elizabeth ontsenu, “ek was nie
in die ongeluk nie, daar was …” Hierdie man met die harde kyk het so min
gemeen met die held van haar kinderdae dat sy verbouereerd stilbly. Sy trek
haar asem in om tot verhaal te kom. “Hulle het die pad versper,” sê sy
desperaat.

Simon lyk nie beïndruk nie. Noudat dit hopeloos te laat is, dink sy daaraan
dat sy vroeër moes gery het, maar hoe moes sy raai die pad gaan só lyk?

Sy oë dwaal na haar knie. “Maar jy is darem nou hier, mejuffrou …” Hy tuur


na die vel papier in sy hand. “Juffrou Roux?”

“Devereux,” sê sy so ferm as wat sy kan. “Elizabeth Devereux.”

Simon laat sak die papier.

“Ek kon ook nie uitmaak wat op die lys staan wat hulle gefaks het nie,” sê
Naomi. “Dis nogal ’n skaars van. Is jy familie van La Fontaine se
Devereuxs?”

In Simon se oë flikker iets wat Elizabeth nie kan peil nie. “Is jy Ruben se
sustertjie?”

Sy knik.

“Genade, hoe oud laat jy my voel,” sê Naomi gemoedelik. “Ek verbeel my

jy moet nog min of meer op laerskool wees, want dis hoe ek jou onthou.”

Simon lyk effens vriendeliker. “Ek wou sê daar is iets wat bekend lyk aan
daardie kol op jou langbroek. Laat ek terugdink. Draadjies om die tande,
pleisters op die knieë, grasvlekke op die klere …” Hy knik skuins na haar
knie.

Elizabeth kreun innerlik. Noudat hy haar herken, sien hy nie raak dat sy ’n
jong vrou is nie. Vir hom is sy nog altyd die wildewragtig wat hy uit die
takke van die bome langs La Fontaine se oprit moes red. “Ek en Juliette was
in die tuin,” sê sy koel, “en as ek reg onthou, was ek dertien jaar oud toe ek
van die draadjies ontslae geraak het.”

“Ook geen wonder ons het mekaar nie herken nie,” meen Simon onverstoord.
Hy sit die lys name neer en kyk vlugtig op sy horlosie.

Elizabeth kyk na die papier wat nou eenkant op die lessenaar lê en besef die
onderhoud is verby nog voordat dit begin het. Sy is nie onnosel nie.

Naomi se verwysing na Simon wat ’n swak verloorder is, maak meteens sin.

Hy het reeds besluit om iemand anders aan te stel en Naomi wou dit nie
toelaat nie.

Haar geduld raak op. Sy laat haar nie vermaak van ’n man wat ’n onderhoud
voer in ’n sweetpakbroek en insteekskoene nie.

“Mag ek sit?” vra sy skerp.

Naomi kyk geïnteresseerd op.

“Maak jou tuis,” sê Simon, maar hy bly staan, en dit versterk die indruk dat
sy sy tyd mors.
Elizabeth maak haar handsak oop. “Mevrou Steyn het gesê jy het iemand
nodig totdat jy Amerika toe vertrek,” sê sy saaklik. “Sy het gesê ’n geldige
rybewys is een van die vereistes. Hier is dit.” Sy sit dit met ’n klapgeluidjie
neer. “Sy het ook gesê ek moet rekenaarvaardig wees. Ongelukkig is ek nie
met sigbladprogramme vertroud nie, maar vir ’n woordverwerker sien ek
kans. En ek kan spel.”

Miskien was sy te kortaf. Nóg Simon nóg Naomi sê iets. Selfs Juliette los die
skouerband van die handsak waarmee sy peuter en gaan staan teen Naomi se
been.

“Dan is jy mos presies wat Simon wil hê,” verbreek Naomi die ongemaklike
stilte. “Deesdae kan niemand dit meer doen nie.”

Simon kyk geïrriteerd na sy suster.

“Spel, Simon,” sê Naomi nadruklik. “Sy kan spel.”

“Het jy enige getuigskrif …” begin Simon vra.

“Jy sien mos kans vir die huisskoonmakery,” sê Naomi tegelykertyd.

“Ek is jonk, sterk en gewillig,” antwoord Elizabeth roekeloos. Wat het sy tog
om te verloor?

“Wag nou, Naomi,” sê Simon.

“En die suster van ’n sjef soos Ruben kan tog nie ’n probleem met kosmaak
hê nie, of hoe?” sê Naomi.

Elizabeth huiwer. Sy kyk vinnig na Simon se uitdrukkinglose gesig. Maar


hoe moeilik kan dit nou wees? As Ruben kan kook, sal sy dit ook kan doen.

Sy maak ’n vae geluid wat min of meer na instemming klink.

“Simon weet in elk geval driekwart van die tyd nie wat hy eet nie, hy is
vreeslik verstrooid,” sê Naomi bemoedigend.

Elizabeth kan sien Simon vererg hom. Hy ignoreer Naomi en gee Elizabeth
se rybewys terug. “Dankie dat jy gekom het,” sê hy met kille beleefdheid.

“Sê groete vir Ruben as jy weer met hom praat. En wat die werk betref: Ons
het ’n hele paar sterk aansoeke gekry en sal jou …”

“… aanstel,” sê Naomi.

Simon verstyf.

Elizabeth kyk van hom na sy suster. “Dankie,” sê sy onseker.

Simon begin praat, maar Naomi spring hom voor. “Laat ek sien.

Donderdag is dit die laaste dag van die maand, nè? Sal jy Vrydag so halfnege
hier kan wees?”

“Ek sal betyds wees,” belowe Elizabeth deur die wind.

“Skitterend,” sê Naomi en gryp haar motorsleutels. “Sien jou vanaand,


Simon, ek en Juliette gaan winkels toe. Kom ek stap sommer saam met jou,
Elizabeth.”

Daar bly vir Elizabeth niks anders oor as om Naomi te volg nie, maar by die
deur aarsel sy. Die donker halfmane onder Simon se oë laat haar vermoed hy
het meer pyn as wat hy wil laat blyk.

“Dankie, Simon,” hoor sy haarself sê. “Ek sal my bes doen om jou nie teleur
te stel nie.”

“Gaaf,” sê Simon en maak die deur tussen hulle toe.

“Dankie dat jy vir my opgekom het,” sê Elizabeth ongemaklik terwyl hulle na


hul motors toe stap.

Naomi loer sydelings na Elizabeth. “Jy moenie jou aan Simon steur nie, ek
dink julle sal wonderlik goed oor die weg kom. Op die oomblik werk dit net

op sy senuwees dat hy my nie soos gewoonlik op my plek kan sit nie.”


Elizabeth kyk vraend na haar.

“Ek is verwagtend,” sê Naomi sonnig, “en in ons familie word swanger vroue
op die hande gedra. Handig, nè? Solank ek hier kuier, sorg ek dat ek die
meeste voordeel daaruit trek.”

Dit klink bra gewetenloos. “Wel, jy het hom darem met die onderhoude
gehelp,” sê Elizabeth beleef.

“Dis om my gewete te sus,” grinnik Naomi. “Ek meen, ek hét sy huishoudster


gesteel.”

“O,” sê Elizabeth floutjies. “Is dit hoekom jy hier kuier? Vir die
onderhoude?”

“Nee, my man verf die babakamer en ek bly net tot die verfdampe uit my
huis is. As Mammie my kon huisves, sou ek by haar gebly het, maar sy het
gaan toer.” Sy grinnik onnutsig. “Enne … toe lei een ding tot ’n ander en nou
is Simon vir my vies.” Sy sluit haar motordeur oop en maak Juliette se
sitplekgordel vas. “Onthou, dis ’n inslaapwerk, hoor,” roep sy by haar venster
uit en trek weg.

Inslaapwerk. Elizabeth staar die motor agterna. Elizabeth Devereux het ’n


inslaapwerk, sal die meisies wat eens op ’n tyd haar vriendinne was, agter hul
hande fluister terwyl hulle skoene in Milaan koop of vir ’n heen-en-weertjie
wegglip na Londen of Mauritius of …

Sy trek haar skouers terug. Die pos is hare; dis wat tel. Simon kan nou wel
onwillig wees en die werk is tydelik, maar dis die begin van ’n neseier
waarmee sy ’n toekoms wil koop. Sy weet nog net nie hoe nie. Of, as dit
daarop aankom, watse toekoms nie. Die tyd sal wel leer.

Op pad huis toe swenk sy verby ’n versigtige motoris en glimlag innemend


vir ’n verkeerskonstabel. Sy wag tot sy hom nie meer in haar truspieëltjie sien
nie voordat sy haar selfoon uithaal om die nuus vir haar stiefma te vertel.

“Hallo, Hermien. Raai wat? Ek het werk gekry.”


“By Luigi’s, ja. Jy’t my gesê.”

“E …”

“Agge nee,” lag Hermien. “Jy is al weer afgedank!”

Ai toggie. Elizabeth vertel haar van die onderhoud asof die hele fiasko vir
haar net so snaaks is soos vir Hermien, en luister dan na Hermien se planne
vir La Fontaine: dagsorg vir die werkers se kinders; dalk ’n koffiekroeg en ’n
proelokaal … Sy sug liggies en knap haar lipstiffie op terwyl sy by ’n
verkeerslig wag.

“Weet jy waarvoor jy jou inlaat?” lag Ruben toe Simon hom bel en sê
Elizabeth gaan vir hom werk. “My suster het nog nooit die binnekant van ’n
besemkas gesien nie, en as jy dink jy gaan iets te ete kry by haar …”

Simon se moed sak laer hoe langer Ruben se lys van dinge word wat
Elizabeth nie kan of wil of sal doen nie, en hy luister verbaas na Ruben se
weergawe van wat sy sustertjie wel gedoen het. Hy hoor van duur vakansies,

’n klein fortuintjie wat aan klere spandeer is, dwase beleggings, van ’n
eiewyse, ligsinnige meisietjie wat partytjie gehou het tot daar niks oor was
om mee partytjie te hou nie …

“Maar het jy haar nie probeer keer toe jy sien wat sy met haar erfporsie
aanvang nie?” vra Simon verslae.

“Keer? Vir Elizabeth? Sy draai jou so netjies om haar pinkie dat jy nie eens
agterkom sy luister nie na ’n woord wat jy sê nie. Ek sê jou nou. Jy sal haar
reg van die begin af moet wys wie’s baas, anders gaan sy vir jou ore aansit.”

“Ons sal sien,” sê Simon.

“Jou arme blikskottel,” sê Ruben. “Jy sal nog baie dinge sien.”

“Genade, Ruben, is daar dan nog iets waarvan ek behoort te weet?” vra
Simon.

“Behalwe nou van die mans?” vra Ruben.


“Mans? Watter mans?”

“Mans wat agter Elizabeth aanloop. Die vader weet hoekom.”

Hy gaan Naomi se nek omdraai, besluit Simon toe hy die foon neersit.

“Daardie vet blondine wat jy wou aanstel, sou nie deug nie,” sê Naomi
geduldig. “En buitendien, dis nog net vier weke voordat jou gips afkom. Ek
weet nie hoekom jy so tekere gaan nie.”

Dit, dink Simon, is onbillik. Naomi lê al hoe lank op sy nek, maar hy het
stilgebly. Selfs toe hy by die dokter beland omdat hy raakrugby met sy swaer
en dié se spul wilde broers gespeel het, het daar nie ’n woord van verwyt oor
sy lippe gekom nie. En wat het dit hom in die sak gebring? Hy sit met ’n
gebreekte arm en sy suster wil sy lewe vir hom reël. Niemand anders sou dit
waag nie.

“Ek wou maar net help,” sê Naomi verwytend.

“Ek het ’n huishoudster gehad voordat jy haar afgerokkel het,” herinner


Simon haar.

“Ag, Battie kan in elk geval nie tik nie,” sê sy lughartig. “En noudat ons

tweede baba op pad is, het Juliette Battie nodiger as jy.” Sy vou haar hand
beskermend oor haar boepie. “En van Juliette gepraat: Sy kon jou dik
blondine nie verdra nie, maar ek het met my eie oë gesien hoe sy op
Elizabeth se skoot sit. Wat sê jy dáárvan?”

“Wil jy my sê … Is dit hoekom jy Elizabeth aangestel het? Van al die


onsinnige …”

“Nee, man, maar kinders het ’n fyn aanvoeling. Soos jy teen dié tyd al moes
uitgevind het. Weet jy, Simon, as jy …” Simon lig sy hand afwerend, want
hy weet wat kom, maar hieraan steur Naomi haar nie. “As jy getroud was,” sê
sy met nadruk, “het jy nie nou met assistente of wat ook al gesukkel nie. Jy is
al dertig jaar oud, nè!”

“Die getroude lewe,” sê Simon ferm, “is ’n komplikasie waarsonder ek goed


regkom, dankie.”

Naomi kyk bejammerend na hom. “As jy getroud was, sou jy nie so hard
gewees het nie. Wat is dit met jou? ’n Mens sou tog reken jy sou iets vir jou
vriend se arme suster oorhê.”

“Waarvan praat jy?” vra Simon geïrriteerd.

“Vir ’n skrywer is jy darem bitter onoplettend. Elizabeth dra ’n antieke


saffierring en haal haar rybewys uit ’n Guccihandsak, en dis nou iemand wat
los werkies soek om kop bo water te hou. Die arme kind is in die
moeilikheid.”

“Arme kind se voet,” sê Simon. “Sy’t ’n stewige bedrag geërf en toe mors sy
dit uit.”

“Waar kom jy daaraan?”

“By Ruben gehoor. Ruben het haar aangepraat, maar toe raak sy deurmekaar
met ’n makelaartjie wat haar ’n klomp hoërisikoaandele laat koop. En toe
kom die resessie en die res van Elizabeth se erfgeld verdwyn in die puin van
die aandelemark.” Hy vryf oor sy boarm. Alles pyn. “Sy is onvolwasse,
onverantwoordelik en voortvarend. En Ruben sê sy sal nie ’n strykyster ken
as sy daaroor val nie. Dis waarmee jy my opgesaal het.”

“Hemel, maar jy’s negatief.” Naomi tik met haar vingernaels op die stoel se
leuning. “Ek weet hoekom jy so beduiweld is. Skrywersblok.”

Dis ’n lae hou en totaal onverwags.

“En dis alles omdat jy in so ’n groef verval het, Simon. Dieselfde ou


betekenislose verhoudings, dieselfde ou huishoudster … Jy kort lankal
iemand wat jou uit jou gemaksone sal skud.” Naomi skuif haar reg – vir die
doodskoot, as hy hom nie misgis nie. “Skrywersblok is ’n nare ding. As jy nie

gou daarvan ontslae raak nie, kan dit maande wees voor jy weer jou hand op
papier sit. Of jare,” sê sy triomfantelik. “Indien ooit.”

Simon hark met sy vingers deur sy hare. “Los dit,” sê hy met hernude
irritasie. “Sy is aangestel. Maar ek sê jou, ek tel die dae tot die gips afkom.

Ás ek dit so lank gaan uithou. Ruben het my gewaarsku. Ek gaan sit met ’n
aanloop van mannetjies wat agter Elizabeth aan is.”

“Ag wat,” gaap Naomi en staan op, “dan kyk jy maar hoe sy die ding doen en
skryf ’n liefdesverhaal.”

’n Liefdesverhaal!

Hy luister misnoeg na haar gevroetel in die badkamer. Nie die gastekamer se


badkamer nie – dis aan die suidekant van die huis en glo te koud – maar sy
badkamer, wat nou al die afgelope twee weke vol frilletjiesrige onderklere
hang. Toe hy kla, het sy gesê hy moenie selfsugtig wees nie.

Sy loer om die deur, nou in haar japon. “Al aan ’n liefdesintrige gedink vir
jou volgende boek?” vra sy en stap giggelend na haar kamer toe.

O, hy kan hom dit net voorstel. Haar satynbedekte boesem dein onstuimig,
dink hy smalend. Hy kan dit duidelik voor sy geestesoog sien. ’n Swartkop in
satyn. Tenger, maar beslis nie meer ’n dogtertjie nie. Sy het helder, ligte oë.

Grys oë. Die mistigheid lê soos ’n delikate silwer net oor die swart hare wat
haar gesig omraam, en sy leun agteroor in sy arms en kyk na hom asof hy …

… asof hy totaal van sy sinne beroof is, bring hy sy verbeeldingsvlug onthuts


terug aarde toe.

Hy gryns. Hy sal sy belaglike suster wys hoe ’n liefdesverhaal lyk. As


Elizabeth sy inspirasie moet wees, sterf sy ’n gewelddadige dood op bladsy
drie.

DRIE

Elizabeth sit langbeen na ’n sepie en kyk. Ter wille van Katrien, wat haar
graadtwaalfs se toetse nasien, is die klank af. Dit maak nie juis ’n verskil nie,
want die tranedal op die skerm speel in Zoeloe af. Katrien se toetse gaan ook

’n tranedal afgee, te oordeel na haar gemompelde beledigings en


dreigemente.

Skielik snuif Katrien. “Wat ruik so?”

“My rys!” gil Elizabeth en hardloop kombuis toe.

Katrien lag so hard dat sy haar pen laat val.

“Kyk nou,” kerm Elizabeth. “Daar het net mooi niks aangegaan toe ek die
kastrol dopgehou het nie, en toe draai ek my rug en daar kook al die water
weg.”

“Ag, Elizabeth, word tog liewer ’n model,” raai Katrien haar aan. “Jy’s
heeltemal mooi genoeg daarvoor. Of trou. Trou met daardie makelaar wat so
knaend was. Met Lionel. Hy sal vir jou ’n horde bediendes aanstel. Én ’n
sjef.”

“Ag, hy’t lankal ’n ander meisie,” sê Elizabeth sonder belangstelling en kyk


verslae na die rys. “Ek moes vroeër begin oefen het.”

“Ek sê jou wat. Bel die man vandag al en vra of daar iets is wat jy môre op
jou eerste dag kan saambring. Dit sal ’n goeie indruk maak.”

“En dan hoop ek maar hy eet gereeld uit?” vra Elizabeth droog, maar druk
nogtans Simon se nommer op haar selfoon.

“Dis bedagsaam van jou,” sê Simon toe sy verduidelik hoekom sy bel. Hy


klink verbaas. “En jou tydsberekening is ook glad nie sleg nie. Naomi se man
het haar twee dae te vroeg kom haal en nou’s hier niemand wat winkel toe
kan gaan nie. Pas dit jou om sommer vandag al hier ’n draai te maak?”

“Enige tyd. Sê net wat jy nodig het.”

“As jy … Of nee, kom laai my liewer op, want as jy die goed koop, is dit
’n gelol om die regte kleingeld vir jou in die hande te kry wanneer ek jou
terugbetaal.”

“Ek is nou-nou daar,” sê Elizabeth verlig. Sy het nog brandstof in haar motor,
maar wat kontant betref … sy weier om daaroor te tob.

Sy kry haar motorsleutels en draf teen die trap af, ligvoets van plesier. As

daar een ding is waarin sy ’n vaste vertroue het, is dit haar bestuursvernuf.

Tot Simon se verbasing klop Elizabeth gouer aan sy deur as wat hy verwag
het, maar die raaisel van hoe sy ’n halfuur lange rit in minder as twintig
minute kon aflê, word opgelos toe hy haar motor sien. Sy sogenaamde
assistent ry met ’n Porsche. En hulle het skaars weggetrek, of hy stel vas dat
Elizabeth nooit ’n rybewys moes gekry het nie. Sy wissel ratte soos ’n renjaer
en haar voet ken net een posisie op die petrolpedaal: heel onder.

“Tygervallei?” vra sy. Voordat hy kan antwoord, swiep die Porsche soos ’n
swaeltjie verby die kafee wat hy in gedagte gehad het en glip die hoofstroom
van die verkeer binne met ’n skaars merkbare vermindering in snelheid.

Simon sukkel sy sitplekgordel vas.

“Dis seker maar stil by jou noudat Juliette en Naomi weg is,” gesels
Elizabeth.

“Lekker rustig, ja,” sê Simon en trap ’n rempedaal wat nie bestaan nie, want
hulle is agter ’n vragmotor en die bakwerk kom heeltemal te vinnig nader.
Elizabeth mompel vererg. Met ’n terloopse blik in die truspieël glip sy regs
deur ’n gaping wat Simon misgekyk het en swenk terug in die linkerbaan
voordat hy sy asem terugkry.

“Is jy altyd so haastig?” vra hy ergerlik.

“Dis ’n Porsche, nie ’n kruiwa nie,” grinnik sy en kyk sydelings na hom.

“Of maak spoed jou senuagtig?”

“Nie as ek self agter die stuur is nie.”


Sy lag en versnel. “Dit lyk my dis alle mans se kwaal. Jy hoef jou nie te
bekommer nie. My pa het my leer bestuur en om hom tevrede te stel, was nie
maklik nie.”

“Werklik,” sê Simon.

Haar swart hare wapper soos ’n vertoiingde seerowersvlag in die wind wat by
die oop venster inkom. Sy sisfluit ’n deuntjie sonder wysie deur haar tande.
Sy lyk nie ’n dag ouer as sestien nie.

Hy probeer regverdig wees. Dit lyk asof sy weet wat sy doen, al doen sy dit
te vinnig.

Sy tik-tik met haar voet op die rem, en ’n blink buisie rol onder sy sitplek uit.
“My lipstiffie,” sê sy verras. “Ek het gewonder wat daarvan geword het.

Kan jy dit bykom?”

Hy kry die lipstif raakgevat en wil dit voor in die paneelkissie bêre. Sy

neem dit egter ongeërg uit sy hand, draai die truspieëltjie met ’n geoefende
gebaar heeltemal na haar kant toe, leun vorentoe, maak haar mond oop en
kleur haar lippe met drie behendige hale in. Bloedrooi.

Hy het geen idee hoekom dit so eroties is nie. Sy maagspiere verstyf asof hy
’n vuishou verwag.

Soos ’n vlermuis uit ’n solder blits sy die afrit na die winkelsentrum af en


parkeer vlak voor ’n ingang met die lipstiffie steeds tussen haar vingers. “Wat

’n geluk, ons hoef nie eens ver te stap nie,” straal sy.

Simon sit versteen. Sy wip uit en maak sy deur oop.

“Ek sal regkom, dankie,” kners hy.

“O. Waarheen eerste?” vra Elizabeth vrolik.

“Eintlik,” sê Simon strak, “wou ek net melk en ’n koerant gehad het.”


“Maar dan kon ons mos sommer by die kafee gestop het,” frons Elizabeth
verbaas.

Vier weke hiervan? dink Simon. Te duiwel daarmee. As sy dink sy gaan hom
in ’n hartstilstand in bestuur elke keer wat hy uit die huis wil kom, wag daar
’n verrassing op haar.

Toe Simon by sy voordeur instap, tref die stilte hom. Hy sit die inkopiesak
neer en staan onvergenoeg in die leë sitkamer. Die plek is soos ’n grafkelder
vandat Juliette weg is, en hy sou dit nooit agtergekom het as Elizabeth nie die
gedagte in sy kop geplant het nie.

Hy besluit hy het geselskap nodig en bel vir Theodore. Maar dié is op


Waenhuiskrans, kuier-kuier op pad Agulhas toe.

“Ek is met vakansie en het my meisie saamgebring. Jy sal maar aan jou
manuskrip moet werk,” raai Theodore hom onsimpatiek aan. “En dit sê ek as
jou vriend sowel as jou uitgewer.”

Dis presies wat Simon nie wil hoor nie. En die oomblik wat hy die
gehoorstuk neersit, bel Naomi. Sy bui versleg.

“Battie sê sy het kos in die vrieskas gelos,” sê sy. “Dit gee Elizabeth ’n
blaaskansie totdat sy die huiswerk onder die knie het. En so van Elizabeth
gepraat, ek moet haar môre leen. Jy gee mos nie om nie, nè, Simon? Ek moet
Binnelandse Sake toe en het haar nodig om Juliette in toom te hou terwyl ek
in daardie lang toue staan. Battie is te besig.”

Dit is die druppel wat die emmer laat oorloop. “Ons is nie môre hier nie,”

sê hy.

“Nie?” vra Naomi agterdogtig. “Waar gaan julle dan heen?”

“Agulhas,” besluit hy op die ingewing van die oomblik. “Jou man het gesê ek
kan in sy strandhuis aansterk. Lyk my dis die enigste manier om rus vir my
siel te kry.”

“Wil jy my sê jy gaan saam met Elizabeth in ons strandhuis bly?” vra Naomi
nadenkend.

“Hoekom nie?”

“Net julle twee?”

“Nou is jy belaglik,” sê Simon ysig en beëindig die gesprek. Hulle is immers


net so alleen in sy huis hier soos in die strandhuis. Die enigste verskil is dat
Naomi te ver is om in te meng.

Daar is ander voordele ook aan Agulhas, val dit hom by. Minder winkels,
byvoorbeeld, en minder mans. As hy boonop die vervoer verskaf, is Elizabeth
se vlerkies geknip.

Nee wat, Ruben is heeltemal te swartgallig. Hy sal Elizabeth sommer gou


regsien.

Elizabeth hou op die kop halfnege voor Simon se huis stil, maar dit voel later.

Sy was die hele nag kort-kort wakker, en teen vieruur het sy besluit om op te
staan. Nou flikker daar ’n paar sterretjies voor haar oë. Sy hoop nie die dag is
te veeleisend nie.

“Môre,” sê sy vriendelik toe Simon die deur oopmaak. Hy nooi haar nie in
nie, groet net en dra ’n swaar tas buitetoe.

“Bring jou goedjies motorhuis toe,” sê hy in die verbystap. “Ons gaan


Agulhas toe.”

“Agulhas?” Sy stap haastig agter hom aan. “Jy bedoel nou, dadelik?”

“Sodra ons klaar gelaai het.”

“Ek sien. Maar hoekom ry ons nie sommer met my motor nie?”

“Daar is nie genoeg plek vir bagasie nie.”

“Ook weer waar,” sê Elizabeth. “Hoe lank bly ons daar?”


“So drie, vier weke. Probleem daarmee?”

Byna ’n maand? Sy het nie genoeg klere gebring nie. “Nee wat,” glimlag sy
dapper, “dis tog lekkerder om see toe te ry as om af te stof.” Simon se
wenkbroue lig. “As dit so ’n mooi dag soos vandag is, bedoel ek,” voeg sy
vinnig by. “Ek is mal oor afstof ook. Dis … dis bevredigend as die … as die
meubels so blink wanneer jy klaar is. Mag ek my motor hier los?”

“Trek hom hier in,” sê Simon en druk die afstandbeheerder. Die breë
metaaldeur rol stadig boontoe en ontbloot die vierkantige agterstewe van ’n
voertuig wat een helfte van die motorhuis vol staan. Dis ’n Land Rover. En
dis horingoud.

Sy stap gemaak ongeërg nader en kyk by die kajuit in. Niks wat sy sien, maak
sin nie. ’n Lang metaalbout of -stang steek onder die sitplek uit. Waar die
paneelkissie moet wees, is ’n gat. Of ’n gleuf. Daarin lê skroewedraaiers en
tange, waarskynlik omdat die ding heeltyd gaan staan.

Simon druk die motorsleutel in die aansitslot. Dit sit aan die verkeerde kant
van die stuur. “Ek gaan haal gou my skootrekenaar,” sê hy. “Sal jy my help
met die drukker? En ’n klompie bokse.”

Sy kyk na die sleutel, maar besluit niemand sal die affêre wil steel nie.

“Dis in die haak,” sê sy. Sy sal sy goed help dra, neem sy haar voor, maar as
hy reken hulle sal met hierdie wrak op Agulhas kom, het hy berading nodig.

Hy wag vir haar totdat sy die Porsche ingetrek het en stap vooruit
studeerkamer toe. Nadat sy die drukker uitgedra het, gaan haal sy bokse met
boeke, en daarna, effe uitasem, drie rieme tikpapier.

“Ek skat ons het alles,” sê hy en slinger ’n bultende swartsak in die bak.

“Dan’s dit nog net my bagasie,” sê sy en gaan wag langs die Porsche dat hy
haar tasse kan laai.

“Reg. Ek gaan stel gou die huis se alarm,” lig hy haar ongeërg in.

Sy kyk hom ontnugter agterna. Om bokse met een arm te dra, is bykans
onmoontlik en dus aanvaar sy dis deel van haar pligte. Dat hy haar tasse help
dra, is ’n kwessie van goeie maniere. Of dalk gebeur dit nie as jy ’n soort
bediende is nie. Dalk word sy subtiel op haar plek gesit.

Sy byt op haar tande en haal self haar tasse uit. Katrien se toegedraaide
geskenkpakkie – ’n kookboek vir haar en vrugtesout vir Simon, het Katrien
gejil – stop sy in haar skouersak.

“Het jy jou hele klerekas gebring?” is al wat hy te sê het toe sy oplaas ’n ou


inkopiesak vol skoene agterin pak.

“Nee, die res is nog by my vriendin se woonstel en op die plaas.”

Simon snork en klim aan die passasierskant in.

Sy kyk bedug na hom. Gister het sy nogal gedink sy het ’n goeie indruk
gewek; blykbaar het sy haar vergis.

Ná ’n worsteling met die koddige deurknip klim sy met ’n lang tree in en rek
haar arm om by die rathefboom by te kom. Ongemerk probeer sy op die knop
lees waar elke rat is, maar daar is net ’n dowwe R en ’n syfer wat ’n vyf

of ’n drie mag wees. Simon hou haar dop. Hemel, kan hy nie vriendeliker
wees nie? Wat kos ’n glimlag nou?

“Het jy al ’n Land Rover bestuur?” vra hy. “Meer spesifiek, ’n Series II?”

Wat dit ook al mag wees. “Nog nie, maar ek sal regkom,” sê sy ferm en draai
die sleutel. Tot haar stomme verbasing vat die enjin.

Simon tel haar handsak op en sit dit anderkant sy voete neer. “Ingeval jy die
bevlieging kry om maskara aan te sit terwyl jy bestuur,” sê hy bokant die
snorkende lawaai.

Sy besluit sy het verkeerd gehoor en probeer die ding in rat stoei.

Uiteindelik, met ’n knars, kry sy dit reg. Sy vee haar sweterige palms aan
haar jeans af. “Jammer,” sê sy. “Ek sal hom nou-nou gewoond wees.”
Maar maklik is dit nie. Sy draai in die sitplek om en sit haar arm oor die
rugleuning. Haar hand raak per ongeluk aan Simon se skouer. “Jammer,”

mompel sy weer en tuur verbouereerd oor die lengte van die lang, lang bak
agter haar. Sy laat kom die koppelaar – te vinnig – en die enjin ruk dood. Sy
probeer weer. Hierdie keer geluk dit haar en sy kry hulle sonder verdere
voorval buite. Terwyl Simon die afstandbeheerder druk, ry sy agteruit uit die
erf.

Sy is nie so ’n groot, lomp affêre gewoond nie en besluit om liewer nie te


kort te draai nie. Die vloeiende kurwe wat sy beplan, word egter so wyd dat
sy aan die stuurwiel moet hang om nie heeltemal aan die oorkant van die
straat te beland nie. Sy eindig in elk geval halfpad oor die wit streep en bly sit
met die gedagte dat sy lank gaan sukkel om eerste rat te kry.

Van agter af kom ’n motor aan. Vinnig. Sy ignoreer dit. Stadig en huiwerig
stuur sy die vierkantige agterwêreld van die Land Rover in die rigting van die
sypaadjie. Sy hoor skreeuende bande en ’n getoeter.

“Blikslaer,” sis sy kortasem.

Die bestuurder steek sy kop by sy venster uit. “Kan jy nie kyk wat jy doen
nie?” brul die man, rooi in die gesig.

Sy voel ’n gloed na haar wange styg. Toe sy die venster wil oopskuif, steek
dit vas. Sy pluk die deur oop. “Kan jy nie sien ek het my flikkerlig aan nie?

Ry agteruit dat ek plek het om te draai,” skree sy, halflyf by die deur uit,

“anders ry ek bo-oor jou enjinkap!” Sy slaan die deur toe en trap die
petrolpedaal. Met ’n onheilspellende protes van die enjin ry sy stadig maar
onstuitbaar agteruit terwyl die man haastig retireer.

“Onbedagsaam,” mompel sy toe hy verbyskiet, en beur met groter


selfvertroue aan die stuur totdat sy met ’n agterwiel op die sypaadjie en die

neus skeef in die pad tot stilstand ruk. Die remme werk definitief anders as
die Porsche s’n.
“Reg!” roep sy triomfantelik uit. “Waar’s die handrem?”

Nóú glimlag hy. Maar nie vriendelik nie. Sy vermoed hy lag vir haar. Hy tik
op die ysterstang wat onder die sitplek uitsteek. “Handrem,” sê hy lakonies.
“En daardie dingetjie met die groen punt naaste aan die deur is die flikkerlig.”

Met ’n verlepte laggie pak sy weer die rathefboom beet.

“Hokaai, hou die koppelaar in,” keer Simon met ’n gepynigde uitdrukking.

“Jy weet waar trurat is. Hier’s eerste.”

Eers toe sy redelik behendig ratte wissel, knik Simon en leun terug. Sy trek
versigtig weg. Buiten ’n benoude oomblik by die eerste stopstraat toe sy haar
weer met die remme misgis, en behalwe dat ’n padvark agter haar begin
toeter ’n mikrosekonde nadat die lig groen geword het, gaan dit gou beter.

“Maak my by die Peregrinepadstal wakker,” sê Simon. “Ek koop altyd brood


by hulle as ek hierlangs ry. Ons eet sommer daar.”

“Ek het al ontbyt gehad,” glimlag sy.

“Ek praat van middagete,” sê Simon en maak sy oë toe.

Sy kom gou agter wat hy bedoel. Die petrolpedaal is weggetrap, maar die
naald bly onwillig rondom die negentig op die snelheidsmeter bibber.

By Sir Lowryspas verskuif Simon op die sitplek en sy gewaar ’n skrefie


tussen sy lang wimpers. Hy sê egter niks.

Teen die steilte val hulle snelheid soos ’n klip. Sestig kilometer per uur.

Vyftig. Veertig. Elizabeth kruie in tweede rat in die linkerbaan en bid dat die
berg moet ophou. ’n Silwer Mercedes fluister soos ’n sug verby hulle. Kort
daarna laat ’n reusagtige meubelvervoerwa hulle moeiteloos agter, gevolg
deur ’n hele streep motors.

’n Fyn glimlaggie speel om Simon se mond.


Net toe sy oortuig raak die enjin gaan kook, is hulle bo en daal met wat
eensklaps na ’n rasende vaart voel op die skerp draaie ondertoe. Sy sou
maklik honderd kilometer per uur kon haal as sy nie heeltyd moes keer dat
die ding sy eie kop volg en van die pad af foeter nie. Sy konsentreer, maar toe
sy weer sien, het die Land Rover ongemerk links gedwaal, en wanneer sy dit
herstel, kuier hy verder regs as wat sy bedoel en die hele proses begin van
voor af.

Sy blaas op haar hand. Ysig. Dis absoluut ysig.

Duskant Grabouw lui haar selfoon. “Hoe gaan dit met die afst …?” tjilp

haar stiefma.

“Wat?” skree Elizabeth.

“Met die afstowwery,” sê Hermien harder. “Wat is daardie lawaai? Die sto

… er?”

“Ek hoor nie ’n woord wat jy sê nie!” gil Elizabeth.

“Stofsuier. Is dit die … toe maar wat,” lag Hermien.

“Jammer, ek hoor niks! Die Land Rover raas te veel!” skree sy. “Ons is op
pad Agulhas toe.” Sy probeer vasstel waar die koue lug inkom. “Bel so oor ’n
rukkie, as ons daar is. So oor … ag, bel my maar vanaand.” Sy druk die
selfoon dood met vingers wat dom is van die koue.

“Jy hoef nie te skree nie,” sê Simon onverwags. “Aan die ander kant hoor
hulle jou duidelik.”

“Ek is heeltemal doof,” sê sy dikmond. “Hoekom raas die enjin so?”

“Dis nie die enjin wat raas nie,” sê Simon. “Die hele ding raas. Jy’s op
bladvere en kruislaagbande, dus is daar padgeraas. ’n Land Rover het skerp
punte en dit veroorsaak windgeraas. En oor die algemeen lawaai die ratkas en
die ewenaar ook maar.”
“Ewenaar?”

“Differential,” sê Simon.

“O, ja, natuurlik,” sê Elizabeth grimmig. “Die differential.”

“Dit help gewoonlik as jy die lugflap toemaak,” sê Simon hulpvaardig. Hy


vroetel met ’n eienaardige hefboompie wat by iets uitsteek wat soos ’n
stomperige slagyster lyk. ’n Metaalflap onder die voorruit klap toe. Die
stroom ysige lug verdwyn. Aan die lawaai maak dit weinig verskil.

Elizabeth pers haar lippe opmekaar.

Die beloofde middagete by Peregrine is ’n wegneemete. Hulle koop wel


brood en heuning ook, maar nie appels nie. Tot Elizabeth se irritasie onthou
Simon die appels eers by die Houwhoekpadstal, waar hulle nie wyn koop nie,
want Simon se Pinot Noir word blykbaar net by Paul Cluver se kelder gekoop
en dit het hulle reeds gedoen. Sy kners op haar tande en draai regs oor die
verkeer met ’n voertuig wat nie vinnig wil stop nie en wat weier om ordentlik
te versnel. Sy sê nie ’n dooie woord nie. As hy dink sy sal kla, maak hy ’n
fout. Verbete klem sy haar vingers om die stuur.

By elke plek ken hy iemand. Hulle terg hom oor sy arm, maak praatjies oor
die weer, praat wynstories en neem nie veel notisie van haar nie. Dis moeilik

om nie uitgesluit en onbelangrik te voel nie.

Stadigaan verander die landskap. Sy ry oor ronde heuwels. Stringe skape loop
in enkelgelid agter mekaar soos wollerige kraletjies in ’n snoer. Daar is

’n hele swerm bloukraanvoëls. Sy het baie tyd om na hulle te kyk – sestig


kilometer per uur teen die bulte op, vyf en negentig die bulte af. Sy gaap en
knipper haar branderige oë.

Langs haar slaap Simon weer. Sy begin insien waarom ’n skrywer so ’n


versukkelde ryding sou verkies. Alles gaan so stadig dat jy dinge sien wat jy
andersins nooit oplet nie. Behalwe natuurlik as dit ’n skrywer soos Simon is
wat nie wakker bly nie.
Sy kyk onderlangs na sy hand wat ontspanne op sy bobeen lê. Daar is ’n wit
litteken oor die kneukels. Dit onthou sy nie. Waar sou hy dit gekry het?

Wat het alles met hom gebeur in die tyd wat sy hom nie gesien het nie? Sy
gaap weer. Eintlik weet sy niks van hom nie, dink sy vaagweg verwonderd.

Sy lang been is gemaklik gestrek en wieg effens links, effens regs soos hulle
ry. Dis ’n hipnotiese beweging. Haar kop knik en sy ruk orent. Die Land
Rover het tot oor die geel streep gedwaal en sy stuur die voertuig versigtig
terug na die middel van die baan.

In Caledon maak Simon sy oë oop en beduie waar sy moet afdraai, en in


Bredasdorp laat hy haar stop om proviand te koop.

Gelukkig is daar twee leë parkeerplekke langs mekaar en sy slaag daarin om


die Land Rover betyds tot stilstand te bring. Sy begin gewoond raak aan

’n voertuig sonder kragstuur of kragremme. Sy ry so netjies agteruit dat die


linkerkantste wiele parallel met die sypaadjie is, slegs sentimeters tussen die
bande en die randsteen. Perfek.

Sy grinnik trots vir Simon.

“Jy kom reg,” sê hy ruimhartig. “Kort voor lank hou jy soveel van die Land
Rover dat jy van daardie ander speelding ontslae raak.”

Hy moet mal wees.

VIER

Met die uitklimslag stamp Simon sy arm teen die deur. Hy maak nie ’n geluid
nie, maar sy gesig vertrek van pyn.

“Jy kan maar hier wag as jy wil,” sê Elizabeth simpatiek.

“En hoe wil jy die kos betaal?” jak hy haar af, sy kortstondige toegeeflikheid
reeds vergete.

Nee, maar reg, dink sy gekrenk terwyl sy agter hom aanstap. Sy het probeer.
Hulle kon ’n plan gemaak het, maar as hy te macho is om te sê sy arm is seer,
moet hy maar ly.

By die emmers blomme naby die ingang gaan sy staan. Sy weet nou wel min
van huishou, dink sy omgekrap, maar jy kan haar niks leer van hoe ’n huis
behoort te lyk nie. Sy kies die rooiste bos wat sy sien.

’n Houer vol diep oranje lemoene maak so ’n mooi prentjie dat sy ses van
hulle neem. ’n Entjie verder sien sy ’n oulike draadgedoentetjie wat sy
volgende in hulle trollie pak.

“En dit?” vra Simon, ooglopend in die duister. Dit lyk ook asof hy sy geduld
met haar planlose kruis en dwars dwalery tussen die rakke verloor.

“Dis vir eiers. Katrien het net so een,” antwoord sy. Dus moet eiers volgende
wees, maar aangesien sy toevallig weer by die vars goed is, kies sy tamaties
en toe papajas, mooi rooi en geel om die blomme te komplementeer.

Wat haar aan kaas laat dink. En dit herinner haar aan beskuitjies. Mens kan
nooit genoeg beskuitjies hê nie, dit weet sy uit ondervinding.

Simon gee skynbaar moed op met haar en verdwyn mompelend na die


wynafdeling. Sy kyk hulpeloos deur die supermark. Wat nog? Sy weet nie
waarvan hy hou nie. Sy begin die rakke van ’n kant af deurwerk.

Toe sy terug by die wynafdeling is, kyk Simon op van die etiket wat hy lees
en sit die bottel stadig terug op die rak. Hy stap tot by die trollie en tel ’n plak
sjokolade op.

“Is daar nog iets waaraan jy kan dink?” vra sy. Sy begin nou die kopery
geniet.

Hy staar stilswyend na haar inkopies.

“Die meeste mense hou van parmaham,” sê sy. “En ek skat hierdie gerookte
Noorweegse salm is gaar. En kyk hier.” Sy tel ’n salami op.
“Jy’s nie vreeslik prakties nie, nè,” sê Simon. Sonder omhaal trek hy die
trollie onder haar hande uit en stap doelgerig vooruit. Hy haal ontbytpap van
die rak af. Suiker. Koffie. Sout. Hoe verder hy stap, hoe kleiner krimp
Elizabeth.

“Ek … ek is jammer, maar ek het nie gedink aan …”

Hy skud sy kop. “Jy kan weer die trollie stoot as jy iets nuttigs wil doen.”

Trane prik onverwags agter haar ooglede. Dis ’n bitter lang dag. Sy het sulke
goeie voornemens gehad om hierdie keer nie ’n gemors van haar werk te
maak nie, en nou is alles bederf. Simon praat skaars met haar, en as hy die
slag praat, blaf hy. Hoekom is hy so gemeen?

Sy lig haar ken. Wie dink hy in elk geval is hy? Die Rousseaus is nou wel

’n ou, gevestigde Bolandse familie, maar die Devereuxs se geskiedenis is


langer as hulle s’n, en boonop kry La Fontaine se wyne meer
Veritastoekennings as die Rousseaus s’n. En as dit ’n kinderagtige gedagte is,
traak sy nie.

Hulle lê die laaste ent pad in stilte af. Sy besluit Katrien het iets beet met die
lysies wat sy elke dag maak. Inkopielysies, lyste van skooltake, wenslysies.
In haar kop stel sy self een op – ’n swartlys – en daarop verskyn die een na
die ander wrok wat sy teen Simon koester.

Teen die tyd dat hy haar uiteindelik van die teerpad laat afdraai, is sy
smoorkwaad. Hulle ry met ’n hobbelrige tweespoorpaadjie langs totdat hy
haar die hek van ’n dubbelverdiepinghuis wys waar sy moet indraai.

“Jou kamer is onder,” sê hy. “Dis langs die motorhuis, maar daar is nie ’n
verbindingsdeur nie en jy sal dus heeltemal privaat wees. Ongelukkig is daar
net ’n buitetrap boontoe en jou kamer se deur is aan die agterkant van die
huis. Dis nogal lastig wanneer dit reën. Ek slaap bo.”

Sy dra haar eie tasse om die hoek tot by die glasdeur van haar kamer.

Simon gaan haal die huissleutels by die bure en kom eers terug nadat sy die
meeste van die goed by die trap opgepiekel en langs die voordeur gepak het.

As sy die geld nie so nodig gehad het nie, het sy hom langdurig en
herhaaldelik vertel wat sy van hom dink.

Toe die Land Rover in die motorhuis is en die laaste inkopiesak in die
kombuis staan, is sy reg vir hom. “Wil jy stort? Dan pak ek solank die kos
weg,” sê sy koel.

Simon se lang wimpers sak oor sy oë. “Belet jy my die kombuis?” vra hy met
’n sweem van ’n glimlag.

“Nee,” sê sy liggies en hou haar oë vyandig op die yskas gerig. “Dis maar

net ’n praktiese reëling, want as ek hier klaar is, kan ek bad sonder om bang
te wees jy kry ’n stroom koue water wanneer ek die warmkraan oopdraai.” Sý
het immers goeie maniere.

“Jammer, jou kamer het net ’n stort. As jy wil bad, sal jy my badkamer moet
gebruik. En ek sal eers die warmwatersilinder moet aanskakel. Koue water tot
vanaand toe, dus.”

Sy knik styf. “Hoe laat sal aandete jou pas?”

“So agtuur se kant? Ek stap eers see toe want ek is nogal styf van die lang sit.
Jy kan op jou tyd begin met … wat ook al.” Hy beduie vaag oor die kombuis
heen.

“Goed,” antwoord Elizabeth stomp. As hy haar saamgenooi het, sou sy in elk


geval nee gesê het, dink sy vies.

Sy wag tot hy weg is voordat sy haastig met die trap af na haar kamer toe
draf. Sy gryp die pakkie met Katrien se kookboek. Toe sy weer in die
kombuis is, skeur sy die geskenkpapier oop. Die botteltjie vrugtesout sit sy
eenkant neer en staar na die voorblad. Resepte vir die mikrogolfoond. Stadig
laat sak sy die boek en kyk na die enorme, luukse stoof wat onheilspellend
glinster. Daar is nie ’n mikrogolfoond in die kombuis nie.

Haar keel trek toe. Sy verlang skielik verskriklik na La Fontaine se warm,


vriendelike kombuis. Ruben het destyds ’n kruietuin aangelê, vol vinkel en
roosmaryn en pietersielie en alles, en daarmee word steeds gekook. Sy moes
nooit weggegaan het nie.

Verdrietig staar sy deur die kombuisvenster na die huis langsaan en fokus op


’n erdepot teen die muur. In die pot groei ’n kolletjie groenigheid wat niks
anders as pietersielie kan wees nie.

Pietersielie! Presies wat sy nodig het om op broodjies of iets te sprinkel.

Toe sy buite kom, pyl sy doelgerig op die erdepot af en sou onmiddellik


begin pluk het as die sydeur nie oopgegaan het nie.

Sy skrik orent. “Hallo!” sê sy vir die ou man wat in die deur huiwer.

“Hallo, Menee … Oom, dis darem mooi pietersielie dié.”

“Dis vir huisgebruik, nie vir verkoop nie,” sê die ou man met ’n swaar
Italiaanse aksent, “en ek het die vorm klaar ingevul.”

Sy frons. “Vorm?”

“Die belastingvorm,” sê hy en kyk haar agterdogtig aan.

Miskien verwar hy haar met iemand anders. “Nee, Oom, my naam is


Elizabeth en ek werk in die huis hier langsaan. Ek wou net weet …”

“Hier?” vra hy en wys bekommerd na Simon se plek. “Is julle dan nie op

Worcester nie?”

“Nee, nee, e … Worcester?”

“Waar die belastingkantoor is,” sê hy beskuldigend. “Op Worcester. Daar is


nie een op Caledon nie.”

Dit kan heeldag so aanhou, besef Elizabeth. Sy haal haar vriendelikste,


onskadelikste glimlag te voorskyn. “Ek wou maar net ’n bietjie pietersielie
leen, Oom.”
“Leen!” sê hy dronkgeslaan. Hy skud sy kop en stap mompelend die huis in.

Toe hy ná ’n minuut of wat nie weer te voorskyn kom nie, haal sy haar
skouers op en pluk ’n klein bossie pietersielie wat sy yskas toe dra. Sy het
mos gevra. Hy kon nee gesê het as hy wou.

Elizabeth was bedrywig, sien Simon toe hy terugkom. Die ruite van die
kombuisvenster is effe skoner en haar blomme gloei op die vensterbank.

Sy kyk nie op toe hy inkom nie, maar saag met ’n frons van konsentrasie aan
die donker rogbrood wat hulle by Peregrine gekoop het. Die punt van haar
tong steek by haar mondhoek uit soos sy sukkel, en dis duidelik dat sy
verkeerd begin het – die eerste sny is windskeef en hopeloos te dik. Dat dit
fataal is, weet hy uit ervaring. Hy sien hoe die snye toenemend skewer word
en wil-wil haar jammer kry. “Het jy hulp nodig?” vra hy sonder om te dink.

Sy kyk vinnig op. “Ek kom reg,” blaf sy.

Hy stryk oor sy ken. Sy smeer die brood en pas twee snye tentatief op
mekaar, maar haal dit haastig weer af. Haar hare hang in haar oë.

“Hou jy … hou jy van oopbroodjies?” Sy klink gespanne. “Toebroodjies kan


nogal afgesaag raak.”

“Maak nie saak nie,” sê hy geamuseerd. “Ons kan dit dalk vir vanaand hou.”

Sy het die kaas uit die yskas gehaal, maar bly staan daarmee in haar hand en
kyk behoedsaam na hom. “Vir vanaand?” vra sy.

“Ja. ’n Paar vriende kom oor vir ete.”

Elizabeth verstar. “Hoeveel vriende?” vra sy met stywe lippe.

“So twee of drie. Hulle het pas gebel. Maar jy hoef nie met kos te lol nie, ons
slaan sommer iets hier op die binnebraai aanmekaar. Behalwe as jy
krummelpap wil maak?”

“Ek dink nie ons het die bestanddele nie,” sê sy floutjies.


“Nee, jy’s reg. Maak sommer net … ag wat, aartappels en slaai.” Hy dink na.
“Amper vergeet ek. Dit sal laat word, maar jy hoef nie wakker te bly nie.

Los die skottelgoed vir môreoggend.”

In sy kamer maak hy sy tas oop en pak sy klere uit. Elizabeth het moed, dit
sal hy toegee, maar sy sal aan haar houding moet werk. Daardie hovaardige
gesiggie en yskoue oë sal nie deug nie. Nie vir ’n nederige lid van die
werkersklas nie. Hy grinnik. Sy lyk eerder soos ’n gewetenlose moordenares
in een van sy boeke.

Elizabeth plak ’n homp Camembert op ’n skewerige oopbroodjie en hap


venynig daaraan voordat sy ’n laai oopruk en afkom op ’n klomp soplepels,
lelike messe en afskuwelike instrumente. Wat sy veronderstel is om daarmee
aan te vang, kan sy haar nie voorstel nie, maar sy weet nou ten minste waar
dit is. Sy tel ’n knyper op, kyk ontevrede daarna en laat val dit kletterend
tussen die ander kookgereedskap. Sy stamp die laai toe en trek die volgende
een oop.

So. Sy hoef nie wakker te bly nie. Sy kan maar die skottelgoed vir later los.

Net solank sy haar nie verbeel sy kan dit waag om haar gesig te wys waar hy
en sy vriende fuif en bras nie!

Dis nou amptelik: Sy haat hom.

Sy word in die donker wakker van ’n gewig op haar bors. Met ’n gesmoorde
kreet klap sy daarna. Dit fladder en val met ’n dowwe slag op die vloer.

Blaaie, besef sy verlig. Dis Katrien se kookboek, met sy ontmoedigende


verwysings na souse soos béarnaise en béchamel, waardeur sy laatmiddag lê
en blaai het voordat sy in haar klere aan die slaap geraak het.

Sy kreun toe sy onthou van die aartappels wat sy vir Simon se braai gemaak
het. Dit het sommer net sonder enige rede uitmekaargeval. Maar wat, sy het
baie moeite met die slaai gedoen en dit afgerond met die geleende
pietersielie.
Sy skakel haar lig aan. Dis net ná twaalf. Simon is seker al bed toe, want dis
doodstil. Sy het nie gehoor toe die mense gekom het nie en ook nie toe hulle
vertrek het nie. Sy sal ongestoord kombuis toe kan gaan om te kyk of daar
vleis oorgebly het, want sy is rasend honger.

Sy glip by die trap op en voel haar pad in die donker tot by die kombuisdeur,
wat sy toetrek voordat sy die lig aanskakel sodat sy nie vir

Simon steur nie.

Vuil glase, leë wynbottels en vetterige borde vol beentjies en oorskiet staan
langs die opwasbak. Haar aartappels is ook daar. Niemand het daarvan geëet
nie. Sy neem hulle nie kwalik nie – dit lyk so onaptytlik dat sy self nie
daarvoor kans sien nie. Sy sit ’n stuk koue wors en ’n flentertjie tamatie op ’n
bord om kamer toe te neem en skakel die lig af. Net voor sy die deur
oopmaak, hoor sy mense met die trap opkom. ’n Vrou lag gedemp.

Deksels. Sy is nie lus vir Simon se gaste nie. In die donker soek sy weer na
die ligskakelaar.

“Sjuut,” waarsku ’n manstem oordrewe. “Ons gaan jou helpertjie wakker


raas.”

“Nee wat, Theodore,” sê Simon, “haar kamerlig is nog aan.”

“Maar vertel ons,” sê Theodore, “hoe lyk hierdie sustertjie van Ruben?

Vet? Maer? Lank? Dis eienaardig dat jy niks oor haar voorkoms sê nie.”

Die voordeur gaan oop en skielik is dit onmoontlik om uit die kombuis te
stap.

Simon antwoord nie dadelik nie. “Sy sal gou leer ’n mooi gesiggie sal haar
niks help nie,” knor hy. “Die werk sal nie gedaan kom as sy net haar wimpers
fladder nie.”

“En fladder sy dit?” Dis die vrouestem. Elizabeth swel op van


verontwaardiging.
“Daar was nie tyd vir streke nie,” antwoord Simon grimmig. “Sy draf al van
vanoggend af. En sy het die Land Rover hierheen bestuur.”

“Nee, o vader, Simon,” sê Theodore. “Dis darem te erg. Hoekom het julle nie
met jou motor gekom nie?”

Sy motor? Simon het dus ’n motor ook?

“Ek het dit laat diens,” sê Simon. “En wat is verkeerd met die Land Rover?”

“Dis ’n temperamentele ou wrak, om mee te begin, en dis ’n straf om dit te


bestuur,” lag Theodore. “Ek begin simpatie kry met Elizabeth. Ek wonder of
jy haar nie so stief behandel net omdat sy te mooi is vir jou gemoedsrus nie.”

“Moenie jy ook nog begin nie,” sê Simon. “Sy is hopeloos. Julle sal self sien
wanneer sy môreoggend vir julle ontbyt maak.” Elizabeth, met haar hand teen
die muur, versteen. “Humeurig en onhandig, nog skone kind,” gaan Simon
voort. “Ruben het gesê ek moet haar vasvat. Sy is haar lewe lank tot in die
afgrond bederf en is skynbaar van mening dat sy altyd haar sin moet kry.”

Die vrou lag. “Arme Simon. Moet ons nie langer bly en hand bysit nie?”

Sy hoor hoe Simon huiwer. “Ek weet nie so mooi nie, Celeste. Ek sal die
meeste van die tyd aan my manuskrip moet werk. Nog ’n laaste koffie en
likeur voor ons inkruip?”

“Ja, los vir Simon, hy’t ’n keerdatum.” Die volgende oomblik swaai die deur
oop en die lig word aangeskakel. ’n Groot vreemdeling steek vas toe hy haar
sien. Elizabeth tree verwilderd agteruit.

“A,” sê die groot man saggies, “’n meisie met arktiese oë.”

“Hoe nou, Theodore?” vra Simon vanuit die sitkamer.

Theodore glimlag. “Ek sê ek is te vaak vir koffie.” Net voor hy die lig weer
afsit en die deur toetrek, knipoog hy vir Elizabeth. “Wat van likeur op die
balkon, Simon?” stel hy voor. Dit klink asof hy reg voor die kombuisdeur
staan. “En as ’n mens die ligte afskakel,” sê hy nadenkend, “sal ’n mens die
sterre mooier sien. Of hoe, Celeste? Wintersterre buite in die winternag sodat
ek styf teen my meisie kan sit.”

Die skrefie lig onder die deur verdwyn. Elizabeth wag tot sy hulle hoor lag

– waarskynlik vir haar – voordat sy uitsluip en met die trap af tot in haar
kamer vlug.

VYF

Die voordaglug het ’n byt en ’n ligte mistigheid damp uit die see. Elizabeth
draf om die kurwe van ’n klipperige baai, deur die dorpie en verby die
vuurtoring voordat sy met haar hande op haar knieë by ’n kleiner baaitjie
gaan staan om te rus. Voor haar voete lê die water helder en vlak in die
poeletjies, maar dieper in dreun die oop see land toe en breek teen die riwwe.

Sy staan effens verlore in die swaar gebulder van die branders en voel haar
hartklop na normaal terugkeer. Sy het te ver gedraf. Dit was asof sy gedink
het sy kan weghardloop van ’n situasie wat onhoudbaar is.

Dis logies dat Simon vir Ruben gebel het om te sê sy gaan vir hom werk,
maar dit krap aan haar dat hy haar met haar broer bespreek het. En met sy
vriende. Hopeloos, het hy gesê. Bederf. Hierdie woorde het laas nag in haar
kop gegalm en vanoggend met elke tree deur haar liggaam gehamer.

Nou, in die wilde betowering van hierdie eensame plek, klink dit dowwer en
minder belangrik.

Sy dwaal langs ’n sloepie af, klouter op ’n grys rots en staan wydsbeen met
haar rug na die land. Sy lek oor haar lippe en proe die soutigheid van die lug.

Koud en skoon.

Êrens in die onstuimige bloute voor haar kom die Atlantiese en Indiese
Oseaan bymekaar. Anderkant die kim lê Antarktika. En agter haar, ’n bietjie
te ver, is die huis waarin Simon en die ander seker nog lê en slaap.
Wel, as dinge te veel raak, kan sy altyd see toe kom. Sy klouter van die rots
af om ’n pienk skulpie op te tel. En Theodore is haar goedgesind. Dis darem
’n troos.

Sy druk die skulpie in haar sak. Sy moet by die huis kom en ontbyt maak.

Die hemel weet hoe.

Op pad terug kom ’n bakkie stadig van voor af aan. ’n Hengelaar? Die
bestuurder dra ’n pap kakiehoed wat hy met ’n voorvinger aanraak. Sy
glimlag en waai. Sy waai ook vir ’n ander man wat stug knik voordat hy
tussen die rotse deur koers kry. Sien, die wêreld is vol mense wat vriendeliker
as Simon is. Die gedagte beur haar in so ’n mate op dat sy met ’n breë
glimlag “Môre!” roep vir ’n jong knaap wat wydsbeen op ’n bromponie voor
die kafee sit. Hy skud sy ruie kuif agtertoe en maak ’n weidse, nonchalante

gebaar wat vir ’n groet kan deurgaan. Sy grinnik en draf verder.

Sy is moeg toe sy haar kamer se glasdeur oopmaak, maar toe sy onder die
stort uitkom, het sy genoeg moed om ’n tafeltjie so te skuif dat sy buitetoe
kan kyk terwyl sy ’n ontbyt bedink wat uit vrugte en jogurt bestaan.

Elizabeth het pas die laaste glas in die droograk gepak toe Theodore sy kop
by die kombuis insteek.

“Mag ek inkom?” vra hy.

“Natuurlik,” antwoord sy verleë. Hy verwys egter nie, soos sy gevrees het, na


die vorige aand nie, maar haal ’n doek van ’n hakie af en help afdroog.

“Dis regtig onnodig,” keer Elizabeth. “Dis my werk.”

“Ons het jou met ’n yslike klomp skottelgoed opgesaal,” sê Theodore. “En
met die oorslapery het jy boonop ekstra mense vir ontbyt. Maar moenie
bekommerd wees nie, ek het blyplek. Voor middagete is ons uit jou pad.”

Sy ontspan. Dis wonderlik om vir ’n verandering nie soos ’n huishulp nie


maar soos ’n gelyke behandel te word.
“Sal ons koffie maak, Elizabeth?” vra Theodore. “Jy is mos Elizabeth, nè?”

“En ek het gisteraand gehoor jy is Theodore,” sê sy stywerig.

Theodore hang die afdroogdoek op en krap in die kaste. “Ek ken jou broer,
Ruben. Hy het eendag vir my vichyssoise gemaak,” sê hy met ’n veraf stem.

“Dit was sop waarvoor jy ’n strikdas aansit.” Hy kom orent met ’n


afgeskerfde koffiekan van emalje in sy hand en spoor ’n koffiesak op.

Elizabeth tel dit wantrouig op.

“Die probleem met ’n koffiesak,” gesels Theodore, “is dat dit partykeer na
sak smaak. Sal jy omgee om dit met kookwater uit te spoel?” Uit ’n kas haal
hy ’n pakkie gemaalde koffie wat gister nie daar was nie en sit dit op die
kombuistafel neer. “Ek neem aan jy en jou broer het nie heeltemal dieselfde
belangstellings nie,” sê hy taktvol.

“O nee,” lag sy, “Ruben is die sjef. Ek kan nie eens …” Sy hou verskrik op
praat en kyk na die deur. “Ek bedoel, daar is nog baie wat ek kan leer.”

Ingeval Simon haar gehoor het.

“Daar is altyd dingetjies wat ’n kok kan leer,” meen Theodore vredig.

“Terloops, jou slaai van gisteraand was ’n fees vir die oog. As ek by die huis
is, maak ek altyd ’n sous van een deel asyn en sewe dele goeie olyfolie, met

’n titseltjie heuning en so ’n knypie mosterd. En watse vars kruie jy ook al


byderhand het, uit die aard van die saak.”

Titseltjies en knypies en dele. Sy rol haar oë en spoel die koffiesak uit.

Theodore pak die borde weg terwyl hy stories vertel oor indrukwekkende
geregte wat Ruben gemaak het en gee tussendeur ’n paar terloopse instruksies
oor wat sy met die koffie moet doen. Toe sy die kookwater oor die koffie in
die sak giet, vul ’n wonderlike geur die kombuis. En toe Theodore proe, gaan
sy oë stadig toe, asof hy gesoen word.
Elizabeth kyk na sy geluksalige gesig en kom agter sy kan nie ophou glimlag
nie. In vadersnaam, dink sy, dis net koffie en sy het maar net alles gedoen
wat hy haar voorgesê het. Maar dis die heel eerste keer dat sy iets doen wat
iemand so plesier.

“’n Mens weet ook altyd wanneer jy in die huis is, Theodore,” sê Simon en
stap by die kombuis in. “Die hele plek ruik na koffie.”

Theodore stoot Elizabeth se beker na Simon toe. “Proe,” sê hy.

“’n Man sal uit sy sterfbed opstaan hiervoor,” sê Simon en gaan sit by die
tafel. “Julle sal definitief langer moet kuier. Minstens tot ná middagete sodat
ek nog hiervan kan kry.”

“Elizabeth het die koffie gemaak,” sê Theodore.

Op Simon se gesig verskyn dieselfde verbaasde verblyding wat sy by Katrien


gewaar het as die domkop van die klas ’n toets deurskraap. “H’m,” sê hy en
glimlag vir haar.

Dit slaan haar asem weg. Dit is daardie glimlag, vriendelik en warm, wat haar
allerhande drome laat droom het toe sy klein was. Sy kan nie anders as om
daarop te reageer nie.

“Staan die aanbod vir middagete nog?” lag Theodore. “Of moet ek almal
daaraan herinner dat dit my pakkie koffie is?”

Celeste slenter binne. Haar oë glip oor Elizabeth se klere, maar sy groet nie.
Sy haak by Theodore in en draai na Simon. “Nooi jy ons vir middagete?”

vra sy.

“Die aanbod staan,” sê Simon. Nou sluit die glimlag Celeste ook in. Net so
vriendelik en net so warm. Dan is dit maar hoe hy met almal glimlag wanneer
hy in ’n goeie bui is, dink Elizabeth onverklaarbaar afgehaal.

“Op een voorwaarde,” sê Celeste. “Ek kook.”

Elizabeth draai weg sodat hulle nie moet sien hoe rooi sy word nie.
“Ek en Elizabeth sal slaai maak,” sê Theodore inskiklik. “Maar waar’s my
maniere? Celeste, dis nou Ruben se sustertjie, Elizabeth. En dis my meisie
Celeste.”

“Hallo,” glimlag Elizabeth beleefd.

Celeste lyk nie juis bly om haar te ontmoet nie; sy groet koelerig en haar oë
flits onmiddellik na Theodore toe, asof sy meer in sy reaksie op Elizabeth
belangstel as in Elizabeth self.

“Maar het jy dan nie gesê jy wil hierdie vakansie nie naby ’n stoof kom nie,
Celeste?” vra Theodore.

“Ag, soos hulle sê, die pad na ’n man se hart …” antwoord Celeste vaag.

Theodore haal ’n sigaar uit. “Loop deur sy maag? Dan is dit die pad na ’n
hartaanval.” Hy klop op sy sakke totdat hy vuurhoutjies hoor. “Of
hartversaking.”

Elizabeth probeer haar glimlag wegsteek – effens te laat, want Celeste se


lippe trek smal op ’n manier wat onheil vir iemand voorspel.

“Moet sê, Celeste,” grinnik Simon, “as jou maagstorie waar is, is Battie die
vrou wat my hart se paadjie ken.”

“O ho!” sê Celeste betekenisvol. “Almal weet tog waarlangs jóú paadjie loop
– reguit oor jou slaapkamerdrumpel. Moenie vir my sê Battie het vir jou
ontbyt in die bed gebring nie …”

Simon antwoord haar nie, maar sy gesigsuitdrukking laat blyk iets waarvoor
woorde nie nodig is nie. Goed so, dink Elizabeth onverwags. Sy is Simon
glad nie goedgesind nie, maar as hy Celeste se simpel grappie verder gevoer
het, sou sy minder van hom gedink het. Sy kyk Celeste net so koel soos
Simon aan en onthou die nuwe wapen in haar arsenaal.

“Koffie?” vra sy.

“Kafeïenvry, asseblief,” troef Celeste haar.


“Kom, Theodore, ek moet goed vir my middagete gaan koop,” beveel
Celeste.

“Gaan jy maar,” sê Theodore. “Ek vertel eers vir Elizabeth hoe jy


hoenderbrejani maak.”

“Maar …” begin Celeste protesteer.

Simon is egter lankal keelvol vir Celeste wat so besitlik is oor Theodore.

“Ek sal saam met jou gaan,” sê hy en trek haar by die huis uit.

“Hoe goed ken jy Elizabeth?” vra Celeste terwyl sy en Simon deur Agulhas
se supermark stap.

“Ek ken haar al lank. Sy het soos ’n skoothondjie agter my en Ruben


aangedraf toe sy klein was. Ons moes haar gedurig verwilder of troos of red.”

Hy kan nie anders as om te glimlag nie.

Celeste kyk tersluiks na hom. “En toe draf sy agter jou aan tot hier in
Agulhas.”

“Nee, sy was so tien of elf jaar oud toe Ruben weg is Frankryk toe en daarna
het ek haar nie weer gesien nie.”

“Dan ken jy haar mos glad nie.”

Nou raak sy regtig irriterend. “Wat maak dit saak? Al wat nou belangrik is, is
hoe deeglik sy afstof omdat sy vir my werk.”

“H’m,” sê Celeste skepties. “Ek kyk daardie stywe kleertjies en uitlokkende


stappie van haar so. En sy’s baie eie met Theodore. Geen man is veilig by
haar nie.” Sy tel ’n pakkie kerriepoeier op. “Jy ook nie.”

“Bog,” sê Simon kortaf. “Sy is bitter jonk, en as jy my vra, was sy bra verleë
toe jy met jou stories van ontbyt in die bed vorendag kom.”

Celeste lag. “Verleë? Jong goedjies soos Elizabeth het op sestien al meer
ervaring van wat alles in die bed gebeur as ek en jy wat feitlik dertig is.”

Simon kyk weg. Hy wens Theodore was daar sodat hy nie allerhande
onsmaaklike praatjies oor Elizabeth hoef aan te hoor nie. Gewoonlik kan jy
hom met stokke en swaarde nie van die kosrakke af weghou nie, maar nou
moet hy kastig hoenderbrejani met Elizabeth bespreek. Hoenderbrejani?

Elizabeth kan skaars brood sny!

Theodore is ’n blikskottel. Sy dwalende oog is die oorsaak van driekwart van


Celeste se nonsens. Tot dusver het dit Simon nie in die minste gepla nie,
maar dit was voordat hy met die vervlakste Ruben se vervlakste babasussie
opgesaal is. En hy het haar in die huis gelos by ’n wêreldwyse kansvatter
soos Theodore!

Die hemel help hom, dink hy en stuur Celeste haastig na die betaalpunt.

Daar is kwalik meer as ’n dag verby en reeds is daar komplikasies. “Hoe lank
is Theodore se vakansie?” vra hy.

“Drie weke, maar ek het net ’n week verlof.”

Ja-nee. Komplikasies.

Celeste bestuur so stadig huis toe dat hy lus is om haar te skud.

“Néé, Theodore,” sê Celeste en lig die ryskastrol se deksel, “dis net kerrie.

Nie Thaikerrie nie, nie snaakse masala nie, net ordentlike kerrie soos my ma
my leer maak het. En as jy my gehelp het pleks van skaak te speel met
Simon, sou jy dit geweet het.”

Simon is bitter spyt hy het Theodore en Celeste vir ete genooi, want tussen

dié twee loop alles op ’n stryery uit.

“Elizabeth het jou mos gehelp,” sê Theodore.

“Sy het net die uie gekap,” sê Celeste.


“En nou maak ek en sy die slaai,” sê Theodore moedswillig. “So, Elizabeth,”
sê hy en sit sy hand oor haar vingers met die knoffelhuisie waarmee sy
veronderstel is om die slaaibak uit te vryf.

En dit, vermoed Simon, is die eintlike probleem. Buiten ’n baie gemoedelike


atmosfeer was daar niks wat hulle agterdog kon gaande maak toe hulle
teruggekom het by die huis nie, maar nou is Theodore al om Elizabeth met
die slaaimakery en Celeste is op die oorlogspad.

Uiteindelik spoel Elizabeth haar hande af en dek die tafel. Sy maak ’n vlugge
beweging met haar hand, van regs na links, en meteens is die skeplepels nie
net neergesit nie, maar gerangskik. Nogal oulik.

“Jy sal die blomme moet afhaal,” besluit Celeste suur. “Die tafel is nie groot
genoeg nie.”

Elizabeth huiwer effens voordat sy die kappertjies optel en dit op die yskas
sit, maar tot Simon se verbasing sê sy niks. Hy vryf ingedagte oor ’n pienk
skulpie wat op die vensterbank lê terwyl hy van die kappertjies na die rooi
blomme kyk wat sy gekoop het. Elizabeth hou beslis van blomme.

“So ja,” sê Celeste en sit die skottel met kerrie op die tafel. “As julle reg is,
kan ons maar eet.”

“En nou?” vra Simon toe Elizabeth deur toe stap.

“Ek sal later eet,” sê sy. Simon kyk verbaas na haar, en dan sien hy daar is
net drie borde gedek.

Celeste kry ’n kleurtjie. “Ek het gesê sy kan saam met ons eet, maar …”

“Natuurlik eet jy saam met ons,” val Theodore haar gemoedelik in die rede.

Dis sy skuld, besef Simon. Dis hy wat die vorige aand die indruk geskep het
dat Elizabeth nie welkom aan sy tafel is nie. Dit maak hom die joos in.

Hy haal nog ’n bord uit die kas. “Kom sit,” sê hy stram.

“Ja wat,” sê Theodore, “hier kan met gemak vier mense aan hierdie tafel sit,
en hier’s nog plek vir wynglase ook. Hoe lyk dit, sal ek ’n Riesling
oopmaak?”

Elizabeth glimlag dankbaar vir Theodore.

“Witwyn in die winter?” vra Celeste.

“Ons het gisteraand ongelukkig die laaste Pinotage gedrink,” sê Simon. En hy


sal bepaald nie sy Pinot Noir vir dié vaal kerrie uithaal nie.

“’n Soeterige Riesling sal lekker wees saam met jou kerrie, Celeste,” sê
Elizabeth.

“’n Wynkenner,” mompel Celeste onvriendelik.

“Haar broer weet heelwat van wyn,” sê Simon in ’n poging om die atmosfeer
te ontlont. Elizabeth neem dit egter heeltemal verkeerd op, want sy kyk hom
kil aan en lig haar glas asof hy ’n persoonlike uitdaging aan haar gerig het.

Sy skommel die glas en ruik. “Appelkoos,” sê sy kortaf. Sy rol die wyn in


haar mond. “En lemoenskil.” Sy ontdooi effens. “Dis goeie wyn.”

Heimlik beïndruk, kantel Simon sy glas in ’n spottende saluut.

“Lemoenskil, nè,” sê Celeste droog.

“My pa het Ruben alles geleer wat hy van wyn weet,” sê Elizabeth en kyk
uitdagend na Simon. “En vir my ook.”

Celeste sit haar glas neer. “Ek gaan my hande was,” sê sy asof dit ’n einde
aan pretensieuse praatjies oor wyn sal maak.

“Hou vas aan hierdie enetjie, Simon, anders vat ek haar vir my,” sê Theodore
toe Celeste by die deur uit is en knik na Elizabeth.

“Sê in vadersnaam eerder vir Celeste jy wil háár vat en dan trou julle en kry
klaar,” sê Simon vies. “Dalk keer dit haar as sy weer op die arme Elizabeth
wil pik.” Hieroor lyk die arme Elizabeth so verbaas dat Simon onmiddellik
onthou hy was glad nie van plan om haar op enige manier te ondersteun nie.
“Selfs al verdien sy dit dalk,” voeg hy by.

“En hier dog ek al die tyd jy glo nie aan trou nie,” sê Theodore en knipoog
vir Elizabeth.

SES

Simon frons. Hy verstaan nie wat met Elizabeth aan die gang is nie. Vandat
Theodore-hulle laatmiddag vertrek het, voer sy alle opdragte flink uit, maar
haar glimlag het saam met die gaste verdwyn. En toe hulle die werkplek inrig
en hy oor haar skouer leun om die regte lêer op die rekenaar oop te maak,
trek sy terug asof hy aan die pes ly en sy nie wil aansteek nie. Daar is niks
waarop hy sy vinger kan lê nie, maar die blote manier waarop sy nou haar
naels sit en vyl, maak sy tande stomp. Hy sweer, as dit nie sy regterarm is wat
gebreek was nie, het hy sy manuskrip met een vinger getik.

Elizabeth sit die naelvyl neer en begin met ’n verveelde gesig Solitaire op die
rekenaar speel.

Hy skraap sy keel om haar aandag te kry. “Dit sal makliker gaan wanneer ek
die nuwe gedeeltes van die storie vir jou op band gee, maar met hierdie klein
veranderinkies wat gemaak moet word …”

Elizabeth se selfoon lui. “Verskoon my,” sê sy beleef. “Ek sal koffie maak
terwyl ek die foon antwoord en jy aan jou veranderinkies dink.”

Astrant. Dis wat sy is.

Hy sit die dun stapeltjie papiere vererg neer. ’n Skrale oes vir vier maande se
werk, en Theodore se sperdatum kom al hoe nader.

“Hallo,” hoor hy Elizabeth groet. “Dis lekker om van jou te hoor! Waaraan
het ek die eer te danke?”

Hy staar in die kombuis se rigting.


“Oe, dit klink lekker,” kreun sy wellustig, “maar ek kan nie … Nee, dis nie
dit nie. Ek kan seker die aand vry kry as ek vra, maar ons is op Agulhas.”

Celeste het Elizabeth reg opgesom, dink hy sinies. Daardie kreun spreek
boekdele.

“Nee, nee, ons … e … raak nog gewoond aan mekaar … Ja, graag.” Daar is
’n stiltetjie waarin hy die geklink van ’n lepel in bekers hoor. “Brinkie,”

kweel sy liefdevol. “Verlang my liefie na my?”

Sy bolip krul.

“Dankie vir die oproep, Hermien,” sê Elizabeth ná ’n eindelose gekoer.

“En sê vir Johanna ek is vreeslik spyt ek loop vanaand haar waterblommetjies


mis. En onthou, Brinkie is nou al te groot om op sy ma se skoot te sit –

volgende keer sit hy by mý wanneer ons eet.”

Dit dring tot Simon deur dat hy in die stilligheid ’n gek van homself gemaak
het.

Sy kom sit sy beker naby hom neer. “Het jy al aan iets gedink wat ek kan
verander?” vra sy.

Daar is nie ’n enkele idee in sy kop nie. “Jy kan maar die rekenaar afskakel.”

“Soos jy verkies,” sê sy ongeërg, “maar dis deel van my pligte dat ek jou help
om hierdie manuskrip klaar te maak. Ek is nie so gewetenloos dat ek geld sal
vat vir werk wat ek nie gedoen het nie.”

“Die ongeluk is dat ek nie ’n benul het hoe om die affêre aan te pak nie,”

sê hy onwillig.

“Ag,” sê sy, “miskien is jou bloedsuiker ’n bietjie laag. As jy wil, kry ek


sommer nou al die aandete gereed. Dalk help dit.”
“Wel …”

“Ek het gedink ons eet sommer vanmiddag se oorskietkerrie. Ek kon sien jy
hou daarvan, want jy het twee keer geskep. Daar is nog baie oor.”

Simon onderdruk ’n sug. Hy het nou nog sooibrand van Celeste se


middagete, maar as hy kla, kry hy straks iets ergers op sy bord.

Aanvanklik sit hy langs Elizabeth sodat hy die skerm kan sien, maar nadat hy
haar ’n klomp paragrawe en toe die hele derde hoofstuk laat uitwis het, is hy
tevrede dat sy min of meer met die program kan werk. “Die eerste stuk pla
nie soveel nie,” sê hy, “maar ek sal ’n plan moet maak met die moordtoneel.

Hier’s dit. Tweede paragraaf.”

Sy knik.

“Sy voete …” Hy weet nie wat om volgende te sê nie, maar Elizabeth het
ywerig begin tik. “Sy voete maak geen geluid nie.” Hy dwaal na die venster
toe. “Daar is nog tyd,” sê hy ná lange oorweging. “In die stikdonker gang …

sleep hy sy vingertoppe oor die hout. Hy haal die loper uit sy sak en … en
voel hoe die deur onder sy ligte aanraking oopswaai. Dis nie gesluit nie.

Instink laat hom agteruit tree. En dan is dit lig. ’n Klanklose sekonde lank is
hy verblind deur ’n verblindende flits wat in duisend kleure splyt. Dan eers
kom die pyn.” Simon aarsel. “Wag. Gaan gou terug na ‘verblindende flits’

toe en maak dit …”

Hy kom agter dat dit baie stil is. Hy kyk op. Elizabeth se oë is so groot

soos pierings. “Het jy die plek?”

“E …” antwoord sy skuldig.

Hy stap tot agter haar en kyk na die skerm. Sy het gevorder tot by

“vingertoppe”. Verder staan daar niks.


“Jammer, Simon,” prewel sy. “Dit was skielik so spannend en toe vergeet ek
om te tik.”

Hy staar haar sprakeloos aan. Sy kyk na die toetse asof sy dit pas ontdek het
en sê beteuterd: “‘… sleep sy vingertoppe oor die deur’, nè?”

Hy kan dit nie glo nie. Dis die eerste keer in maande dat daar ’n mate van
vloei in sy gedagtes kom en nou verloor hy dit omdat sy sit en slaap.

Dae en dae se ergernis oor sy onmagtigheid kook oor. “Luister,” bars hy uit,
“dit maak nie soveel saak dat jy nie kan kook nie, maar as ek geweet het jy
kan nie tik terwyl ek dikteer nie, het ek iemand anders gekry. Al het Naomi
ook wat gesê. En al is jy hoe diep in die moeilikheid.”

Sy kyk verslae na hom. “Het julle my aangestel omdat julle my jammer gekry
het?”

“Jy vergeet. Ek het jou nie aangestel nie, Naomi het.”

Hy besef onmiddellik hy het te ver gegaan.

“Ek sien.” Sy staan ’n bietjie te vinnig op. “Verskoon my, asseblief.” By die
deur draai sy om. “Ek vra dat jy my ’n dag grasie gee,” sê sy met ’n stem wat
gevaarlik wankel. “As jy my môreaand steeds wil afdank, sal ek … sal ek
Lionel vra om my te kom haal.”

En sy stap uit.

Simon bly in die middel van die vertrek staan. Hy wil agter haar aanstorm en
om verskoning vra, maar hy keer homself. Hy het vervlaks rede om
ontevrede met haar te wees! Sy laat eet hom oorskietkos, sy bodder sy storie
op, en nou laat voel sy hom soos ’n boelie.

Hy skakel die rekenaar af en gaan kombuis toe om die ligte af te sit. Hulle
kerrieborde staan nog net so in die opwasbak.

Hy stap in die donker op die balkon uit en leun teen die reling. ’n Vierkant lig
val op die kweek voor Elizabeth se glasdeur.
Hoog in die lug skuif wolke doodstil voor die sterre verby. Daar is geen wind
nie. Selfs die alomteenwoordige geluid van die see is gedemp tot ’n veraf,
donker waarskuwing. Dis hoekom hy so duidelik die hartverskeurende snikke
hoor wat uit haar kamer kom.

Hy maak die skuifdeur van binne af toe voor hy begin swets. Hy wou haar
mos nie afdank nie? Wat de ongeluk laat haar dink hy wil haar afdank? En

wie de duiwel is Lionel!

Hy rol ure lank rond toe hy uiteindelik gaan slaap. Dalk het Ruben glad nie
bedoel dat hy haar so ru moet behandel nie. Hy kan nie ophou dink aan die
verslaentheid in haar oë en die seergemaakte trekkie om haar mond nie. Hy
onthou hoe klein haar handjies op die Land Rover se stuurwiel gelyk het en
hy voel soos ’n absolute skurk.

Elizabeth kyk krities na die vertrek. Die tafel is gedek en daar is servette op
die kleinbordjies. Die botter is versier met ’n takkie pietersielie wat sy
vroegoggend uit die tuin langsaan gesteel het, en voor Simon se bord staan ’n
bekertjie room, ’n ronde fles heuning en ’n glas vars lemoensap.

Buiten die stoof is die kombuis blinkskoon. Selfs die vuilgoeddrommetjie se


deksel glinster. Sy het dit opgevryf nadat sy die gebakte eiers daarin
uitgekrap het, want die geel het gebreek toe sy die stukke dop uithaal wat in
die pan beland het. Sy tel nog eiers op, maar sy hoor Simon se kamerdeur en
besef hy is wakker en kan enige oomblik by die kombuis instap. Sy sien nie
kans om eiers te bak terwyl hy vir haar staan en kyk nie. Inderhaas vee sy die
glibberige strepe eierwit rondom die plaat op, gooi die slymerige vadoek in
die pan en stop dit in die opwasbak.

Die badkamerdeur gaan toe. Hawermout! onthou sy. Die aanwysings is op


die kant van die boks. “Houtlepel, houtlepel,” prewel sy koorsagtig en skraap
alles bymekaar wat sy nodig het.

Sy klem haar tande opmekaar en roer. En roer. Toe gluur sy die pot aan totdat
die voorgeskrewe vyftien minute verby is. Sy voeg ’n klont botter by en proe.
Perfek, as jy die soort mens is wat opgewonde oor hawermout raak.
Sy hoop hy stik daarin.

“Dit lyk soos ’n stillewe,” praat Simon onverwags agter haar.

Sy ruk soos sy skrik en kyk wantrouig na die vriendelike glimlag waarmee hy


die tafel beskou. “Goeiemôre,” groet sy koel. Net om te wys hoe bekwaam en
bedagsaam sy is, blaker sy uit: “Het jy ’n cholestrolprobleem?”

“Ek glo nie. En sover ek weet, het ek ook nie prostaatprobleme of hartkwale
nie,” antwoord hy droog, “ten spyte van my gevorderde leeftyd.”

Hy verstaan haar verkeerd – waarskynlik aspris. “Gaaf,” sê sy saaklik. “Ek


wou uitvind of ek weer room op my inkopielysie mag sit.” Sy skryf dit netjies
op die papier wat op die tafel lê en skep sy hawermout in. Toe sy ná ’n rukkie
waag om na hom te kyk, eet hy nie, maar sit haar en aanstaar.

“Sal ek solank jou brood smeer?” vra sy.

Hy glimlag weer. “Jy laat dit soos ’n oorlogsverklaring klink.”

Al hierdie glimlaggies maak haar senuagtig. Sy stap om die tafel en trek sy


kleinbordjie nader. “Kaas? Heuning?”

“Kaas, asseblief. Elizabeth?”

“Ja?” Sy stoot die bordjie nader aan hom en wil wegdraai, maar sy vingers
sluit liggies om haar pols. Sy hand is ontstellend groot en warm.

“Ons het nie alte goed begin nie, het ons?” vra Simon.

Sy kyk weg.

“Ek het nie die helfte van alles bedoel wat ek gisteraand kwytgeraak het nie.
Ek is nie daaraan gewoond om so hulpeloos te wees nie, en …”

Nou wil hy seker hoor dit was sommer niks, dink sy bitter.

“En toe druk ek my baie sleg uit. Sal ons weer probeer?” Hy glimlag steeds.
Sy stem is so oorrompelend warm dat dit ’n rukkie duur voor sy registreer
wat nié gesê is nie. Hy sê nie hy is jammer nie. Hy verduidelik net hoekom
hy so gemeen was.

Sy trek haar hand weg en kyk hom reguit aan. “Probeer wat?” vra sy stomp.

Simon hou op glimlag. “Om aan die manuskrip te werk, as dit jou pas.”

“Dis reg so,” sê sy. “Ek het so ’n kwartier nodig om die kombuis op te ruim,
dan is ek gereed.”

Hulle eet in stilte verder. Dit pas haar ook.

Dié keer word hy nie deur Elizabeth se selfoon gepla nie. Sy het dit
afgeskakel soos hy gevra het. Miskien het sy dit te opsigtelik gedoen, asof sy
doodseker wou maak hy let op sy maak soos hy sê. Sy tik vinnig, byna
aggressief vinnig, maar sy vyl nie haar naels nie, skuif nie op die stoel rond
nie en speel nie Solitaire nie. Sy is so bekwaam dat dit sy aandag aflei.

Hy kyk na die skerm en sug liggies. Van pure oorhaastigheid het sy ’n hele
boel foute gemaak, maar hy dink nie dis die regte tyd om ’n woordeboek
langs haar neer te smyt en te sê sy moet regmaak wat sy verbrou het nie.

“Bladsy twintig,” sê hy. Hy lees die eerste seksmoord vlugtig deur en steek
by die vierletterwoord in die derde paragraaf vas. Hy kyk onderlangs na
Elizabeth. Wat hy op die bladsy sien, sien sy op die skerm. Sy sit vooroor en
frons. Dan maak sy ’n tikfout reg. Sy sê niks, maar hy het nog nooit iemand

gesien wat soveel met haar lyf te sê het sonder dat daar ’n woord uit haar
mond kom nie.

“Is die taalgebruik vir jou ’n verleentheid?” vra hy met geforseerde geduld.

“Wat laat jou so dink?” Sy klink nie oortuigend nie. “As jy hierdie aaklige
goed kan sê, kan ek dit tik.”

Dis net daar waar die knoop lê, besef hy onthuts. Hy kan nie. “Dis nie ’n
romanse nie,” verdedig hy. “Die man is ’n moordenaar en die vrou pers hom
af. Hy slaap by haar, raak ’n paar vieslike goed kwyt en moker haar met ’n
papiergewig.”

Sy draai haar kop minagtend weg. “Tonele soos dié sorg seker dat jou boeke
verkoop.”

Sy dryf hom verby alle perke van geduld. “Dis reg,” gryns hy en gaan sit op
die skryftafel se hoek. Sy skuif effens weg. “Ons leef nie meer in die
Victoriaanse tydperk nie. My lesers gebruik elke dag sulke taal en dink nie
seks is heilig of soetsappig nie. Allesbehalwe. Selfs tieners eksperimenteer
wild en wakker en verloor hulle maagdelikheid lank voor hulle sewentien is.

Soos jy sekerlik behoort te weet.”

Haar oë vlam. “Dit kan nou wel jou en Ruben se manier van doen gewees
het, maar ek was beslis nie so goedkoop nie.”

Hy lag haar uit. “En hoe het jy dit miskien gedoen?”

“Dis my saak,” sê sy uit die hoogte.

Sy verstel die hoek van die skerm. Die beweging is effens te nonchalant en na
sy mening totaal onnodig. En hy is reg, want ’n oomblik later stel sy dit weer
presies soos dit tevore was. Haar rug is so regop soos dié van ’n outydse
hertogin, maar daar is ’n trekkie om haar mond wat haar ongemak verraai.

Hy staar daarna.

Sy is nie so ervare soos Celeste dink nie.

Hy kry die verwarrendste gevoel. Tevredenheid miskien, of verligting. Of


irritasie. Hy weet van meer as een gewetenlose vent wat so ’n weerlose mond
nie sal kan weerstaan nie en die mondhoekie saggies met sy tongpunt sal terg
totdat sy … totdat hy …

Sy gedagtes het heeltemal ontspoor. Hy wou iets sê, maar kan glad nie
onthou wat dit was nie.

“Verskoon my, daar is iemand by die deur,” sê Elizabeth. Haar stem is beleef,
maar toe sy verby hom stap, is dit met ’n parmantige swaai van die skouer.
Hy het nie eens die klop gehoor nie.

Klein helleveeg, dink hy, verskeur deur teenstrydige gevoelens van

ergernis en onwillige begeerte. Sy verbeel haar natuurlik sy het hom goed op


sy plek gesit. Sy moet dit maar geniet. Dis ’n illusie wat nie lank sal hou nie.

Theodore stap agter haar aan die vertrek binne. “Ek hoop nie ek steur nie,”

sê hy droefgeestig, “maar ek en Celeste het ’n uitval gehad en nou’s die huis


te klein vir my. Of te groot. Jy weet hoe dit is.”

Simon is maar te dankbaar Theodore is daar. Hy’t genoeg gehad van onervare
meisietjies wat vervlaks te jonk is om te weet hulle moenie jou op allerhande
maniere treiter nie. “Het Celeste al weer die pad gevat?” vra hy.

Theodore knik. “En nou voel ek soos ’n skobbejak.”

“Daarmee het ek simpatie,” mompel Simon.

Elizabeth kyk skerp na hom, maar hy ontwyk haar oë.

“Ek het vars vis in die hande gekry,” sug Theodore. “Sal ek dit vir ons
gaarmaak vir vanmiddag?” Hy kyk na die rekenaar. “Ek weet jy het ’n
sperdatum, maar dit is darem Sondag, nè.”

“Ek het skoon vergeet.” Simon skakel verlig die rekenaar af.

SEWE

Elizabeth tik met haar voet op die kombuisvloer. Sy het ontbyt gemaak en
alleen geëet, want Simon lê en slaap. Sy wil sy badkamer skoonmaak, maar
dan moet sy water tap en dit mag hom steur. Sy maak die besemkas oop om

’n stoflap uit te haal en vat iets raak – ’n kookboek vol kolle en spatsels.
Makataankonfyt, lees sy, wat gevolg word deur pampelmoeskonfyt; daarna
sit ’n klomp blaaie aan mekaar vas. Wel, hoera. Hoe nuttig. Sy stop dit terug
in die kas en gaan stof die sitkamermeubels af. Toe stof sy alles af in die
slaapkamers oorkant en langs Simon se kamer, waar daar steeds geen teken
van lewe is nie.

Sy weet hoekom. Dis omdat hy gister ná middagete saam met Theodore hier
weg is, sonder om haar saam te nooi, en drieuur die oggend eers teruggekom
het. Sy weet presies hoe laat dit was, want haar kamervenster was oop en
Theodore se motor het haar wakker gemaak.

Sy kyk onder ’n bed en ontdek nog stof.

Terug in die kombuis bêre sy die lap en bekyk die stofsuier. Dis ’n stokou
model met ’n groot vierkantige voet en ’n lilapers stofsak wat agter die lang
steel afhang.

Sy haal dit uit en stoot dit na die agterste kamer. Te duiwel met Simon se
slapery. Dis byna tienuur en sy is keelvol. Sy is nie ’n vloerlap soos Battie
nie, en as hy haar afdank net omdat sy die huis skoonmaak, is dit tot
daarnatoe.

Sy prop die stofsuier in en druk die skakelaar by die muur. Daar is ’n ligte
geratel, gevolg deur ’n stygende, deurdringende geloei. Verskrik soek sy die
plek op die steel en voet waar jy dit afskakel, maar kry dit nie. Sy gryp die
stofsuier en stoot dit oor die mat terwyl die geratel vererger. Dit word ’n diep,
dreigende vibrasie. Sy tree skrikkerig terug, maar waar sy gewerk het, lê ’n
netjiese stofvrye strook. Dit klink seker maar so, praat sy haarself moed in.

Net toe sy lekker op dreef is, sluk die masjien en vrek. Morsdood.

Sy wikkel aan die koord, draai na die muurprop en kyk in Simon se toornige
oë vas. Hy het net ’n pajamabroek aan, en met sy kaal voete en kaal bolyf is
hy ’n manjifieke gesig. Die elektriese prop is in sy hand.

“Goeiemôre,” sê sy met haar sonnigste glimlag. “Lekker geslaap?”

Woordeloos gluur hy haar aan en tel die stofsuier op.


“Verskoon my,” sê sy beslis. “Ek is nog nie klaar nie.”

“O, ja, jy is,” knor hy iesegrimmig. Hy stap met lang treë in die gang af, kry
die deur ná ’n paar probeerslae oop en stap by die trap af met die ding in sy
hand. Sy draf tot by die deur en gaap hom aan. Hy sit die stofsuier neer, pluk
die deksel van die groot munisipale vuilgoeddrom af en gooi die masjien met
’n dowwe knal daarin. Die steel steek bo uit. Hy kyk misnoeg daarna en los
dit net so.

Dis winter en allesbehalwe warm, en jy sien nie aldag ’n man met min klere
wat hom so vervies dat hy vergeet om koud te kry nie. Sy vou haar arms en
kyk met ’n grinnik hoe hy effens kleinserig met sy kaal voete oor die
gruisklippies terugstap.

“Waag dit weer,” dreig hy toe hy by haar kom, “en ek smyt jou ook in die
drom.”

Sy skater van die lag.

Ná ’n rukkie grinnik hy onwillig. “Jy’s ’n nare entjie mens, Elizabeth,” sê hy.


“Weet jy hoe voel my kop?”

En met dié spytige grinnik word hy amper weer die Simon wat sy ken.

“En wie se skuld is dit?” vra sy. “Het ek miskien vir jou gesê jy moet tot
watter tyd by Theodore kuier?”

“Ek moes heelnag sy gesanik oor Celeste aanhoor, en asof dit nie genoeg is
nie, het hy die plek donker gerook met daardie afgryslike sigare van hom.”

Hy vryf ingedagte oor sy arm bo die gips. “Theodore voel sleg omdat Celeste
so onbeskof was met jou,” sê hy, “en ek hou ook nie daarvan nie.”

“Sy is so jaloers op Theodore, sy kan nie reguit dink nie,” maak Elizabeth dit
af, maar dis vir haar lekker dat hy dit gesê het. Sy stoot haar weg van die
kosyn. “Jou ontbyt is in die yskas. Dis papaja,” glimlag sy warm.

Toe hy later in die kombuis kom, staan hy ’n oomblik na haar en kyk. “Ons
kan vir jou ’n ander stofsuier op Bredasdorp koop,” sê hy. “’n Stil een. Ek wil
buitendien vandag biblioteek toe gaan.”

Dit beteken sy moet ’n langerige en vervelige rit met die Land Rover verduur,
maar ’n mens kan ook nie alles kry wat jy wil hê nie.

Simon stel nie in verkoopspraatjies belang nie en dring daarop aan dat elke
liewe stofsuier in sig aangeskakel word sodat hy daarna kan luister. Elizabeth
vind dit redelik vermaaklik, totdat die verkoopsman hom raadop tot haar

wend en haar “mevroutjie” noem. Toe raak sy ongeduldig en vra vir Simon
tot hoe laat die biblioteek oop bly. Dit het die gewenste uitwerking.

Toe sy die Land Rover tot stilstand bring en met ’n lang sug uitklim, haal
Simon sy beursie uit. “Lyk my biblioteke is maar laag op die ranglys van
plekke waarin jy belangstel,” sê hy neerbuigend. “Jy kan inkopies doen as jy
te verveeld raak.”

Die bibliotekaresse raak die kluts heeltemal kwyt toe sy besef dis Simon
Rousseau wat teen haar toonbank leun. Elizabeth kyk haar bejammerend aan.

Simon kan so bekend en so aantreklik wees soos hy wil, maar hy is ’n mislike


derduiwel wanneer hy skryf. Toe hy vra hoeveel boeke hy mag kry, blyk dit
dat hy min of meer ’n kruiwa vol kan uitneem as dit hom sou behaag.

Elizabeth is seker dis teen die reëls.

Sy drentel na die kookboeke toe, maar kom gou agter sy sal nie kry wat sy
nodig het nie. Waar kry sy ’n boek wat haar vertel hoe jy ’n aartappel
gaarmaak? Almal verbeel hulle jy kan dit sommer net doen. Wel, sy kan nie.

Sy kan perdry, ski, duik, seil en die tango dans sonder om middeldeur te
breek, maar van aartappels weet sy bloedweinig. Buitendien, dis nie
aartappels wat sy wil kook nie, dis kerrie – ’n manjifieke kerrie wat Celeste
op haar neus laat kyk terwyl Simon haar om verskoning smeek oor hy gesê
het sy kan nie kook nie. Dis wat sy wil hê.

Sy gee moed op en gaan sit in die tydskrifafdeling waar ’n ouerige Indiërvrou


tydsaam deur ’n maandblad blaai. Elizabeth staar na die swart sydoek om die
vrou se kop en onthou haar eie Hermèsserp met die kappertjiepatroon wat by
Katrien agtergebly het. Indiërs, peins sy, dra die wonderlikste klere, en hulle
maak die lekkerste kerrie …

“Verskoon my, Mevrou,” sê sy hoopvol, “ek hoop nie dis voorbarig om te vra
nie maar ek moet kerrie kook en ek wonder of u so gaaf sal wees om vir my
te verduidelik hoe?”

Die vrou maak haar tydskrif toe en leun stadig na haar toe oor. Daar is ’n
ondeunde vonk in haar oë. “Matig?” vra sy, “of sterk?”

Toe sy ná haar inkopies vir Simon oplaai, bied hy aan om middagete te koop.

“In ’n restaurant?” vra sy verras.

“Waar anders?” glimlag hy.

Dis ’n onweerstaanbare glimlag en daarom vertrou sy nie die vrede nie.

“Theodore sê altyd in ’n restaurant bestel jy net kos wat jy nie self kan

maak nie,” sê hy toe hulle die spyskaart kry.

“Dan het ek ’n wye keuse,” sê sy droog.

“Jy is te krities oor jouself. Ek wil ’n behoorlike biefstuk hê, en jy?”

Sy vou haar spyskaart toe. “Vir ’n koue dag soos vandag: sop.”

“Ek het nagedink terwyl jy dorp toe was,” sê hy terloops nadat hy hulle
bestelling geplaas het. Hy draai skeef op sy stoel en kyk opsommend na haar.

“Oor maniere waarop ek die lewe vir ons albei makliker kan maak.”

Haar keel trek toe. “Dis gaaf van jou,” sê sy. Dan is dit hoe hy dit gaan doen
– koop vir haar ’n ete en steek haar in die pad wanneer die nagereg kom.

“Wat die storie betref. Dit plaas druk op ons al twee as ek dikteer en jy moet
byhou,” sê hy.
Sy verstyf. “Ek het gister bygehou,” herinner sy hom.

“Jy het, ja, en baie goed ook,” stem hy saam. “Maar Theodore het vir my

’n digitale bandopnemer geleen en dit word tyd dat ek dit gebruik. Kom ons
maak só: Ek merk ’n plek op die geskrewe teks en sê op band wat ek daar wil
verander. Dan laai ek dit van die bandopnemer af op die rekenaar. Jy tik dit,
plus enige nuwe gedeeltes wat ek uitdink, en druk dit vir my.”

“O. O, ek sien,” stotter sy verlig. Die kelner bring die wyn wat Simon bestel
het, en dit gee haar kans om haar selfbeheersing te herwin. Sy trek haar asem
bewerig in. “Is dit dieselfde as wanneer jy foto’s van ’n digitale kamera
aflaai?”

“Min of meer. Jy hoor my stem oor die rekenaar se luidsprekers en roep halt
as ek te vinnig praat. Wat sê jy?”

“Dan kan ek met my ander take aangaan en tussendeur tik.”

“Terwyl ek voortgaan met die storie op band. Dit gee ons …”

“Beweegruimte,” knik sy. “Dis ’n wonderlike idee. Jy sal my net moet


touwys maak.”

“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Express Scribe is ’n eenvoudige


program en jy leer vinnig.”

“Dankie,” glimlag sy behoedsaam.

Hy kyk na haar mond en glimlag ook. “Daar is nog iets,” sê hy saggies.

“Ek gaan vir jou ’n rekening oopmaak en sal die huishougeld weekliks saam
met jou loon daarin deponeer.”

Dis werklik ruimhartig. Verrassend ruimhartig. Veral ná die episode met die
stofsuier.

“Dit moet sleg wees om aanmekaar bakhand te staan as jy iets vir die huis
of vir jouself nodig het.” Hy leun gemaklik agteroor. “Ek was gedurig platsak
toe ek jou ouderdom was. Dit voel soos honderd jaar gelede, maar ek onthou
wat ’n verleentheid dit was dat ek moes vra.”

Sy sit regop. “Dit was tien jaar gelede,” sê sy.

“Ekskuus?”

“Jy is net tien jaar ouer as ek, Simon, en as jy toe by jou pa-hulle geld
gebedel het, vreet ek my hoed op.”

Sy glimlag verdwyn. “Ek het gewerk sodat ek myself kon onderhou totdat ek
genoeg met my skryfwerk verdien het,” sê hy kortaf.

“En wat doen ek miskien? Ek sit beslis nie rond en … en fladder my wimpers
nie,” onthou sy sy gewraakte woorde.

Simon vryf oor sy voorkop.

“Of dink jy dis nie ’n eerbare werk nie? Dink jy ek kry net die tyd om?” Sy
trek die tafeldoek ergerlik reg. Die ding hang met ’n punt. Dit pla haar al
vandat hulle kom sit het.

Skielik verhelder sy gesig van pret. “Om doodeerlik te wees, Elizabeth, ek


het nie die vaagste benul wat jy doen nie. Die eintlike vraag is: Weet jy?”

“Wat bedoel jy?”

“Dis nog net, wat, drie weke en ’n paar dae? Dan werk jy nie meer vir my
nie. Wat doen jy daarna?”

“Daaroor hoef jy jou nie te bekommer nie.”

“Jy weet nie, nè?”

Sy huiwer. “Nee, maar ek kan jou sê wat ek nie sal doen nie. Ek gaan beslis
nie terug La Fontaine toe om op Hermien se nek te lê nie.”

“Watse alternatief is daar? Ruben het my gesê wat met jou erfgeld gebeur het.
En al sou jy ook net so mal oor kosmaak gewees het soos jou broer, twyfel ek
of jy vir ewig ’n huishoudster sal bly.”

Hy verwys nie eens na die tikwerk nie, besef sy. “O.” Sy tel haar glas op.

“Dan dink jy ek moet op die plaas gaan sit en met my duime speel tot ek ’n
ryk man vang?”

Sy mondhoek lig stadig in ’n gevaarlike glimlaggie. “Jy was ’n oulike


dogtertjie toe jy klein was,” sê hy sagkens. “Waarom is jy nou so vyandig?”

Sy sit haar glas baie versigtig neer. “Dalk, Simon, is dit omdat jy my soos

’n kind behandel.”

Hy kyk spottend na haar. Na haar mond. Sy verskuif ongemaklik toe sy blik


bly talm en ’n skaamtelose liefkosing word wat oor haar keel glip.

Haar instinktiewe reaksie is verontwaardiging, behalwe dat haar liggaam

nie verontwaardig is nie, maar nuuskierig. Sy verdedig haar op die enigste


manier wat sy ken: yskoue hooghartigheid. Haar ken en haar wenkbroue
word ewe hoog gelig.

“Ek dink dit sou onbillik wees,” sê Simon dralend.

“Onbillik?” herhaal sy. Haar stem is heeltemal te hoog en te angstig, hoor sy.

“Om jou soos ’n vrou te behandel, my liewe Elizabeth.”

Sy is baie bly toe die kelner opdaag. Sy bedank hom toe hy die sop voor haar
neersit en vou haar servet oop voordat sy waag om weer na Simon te kyk.

Simon staar egter na sy biefstuk, en dit bring haar tot verhaal. “Miskien moet
jy my liewer soos ’n ma behandel.” Sy trek sy bord nader en sny die vleis in
blokkies. “Beter?” vra sy fyntjies.

“Mooiskoot,” sê hy geamuseerd en steek sy hand na haar uit.


“Wapenstilstand?”

Sy skud sy hand formeel. “Akkoord.” Sy voel nog steeds sy warm aanraking


toe hy haar hand los. Dit sou baie maklik wees om te vergeet hy is verloof …

Die gedagte kom uit die bloute: Sy het lankal vergeet hy is verloof. Terwyl
hy die vyand was en sy agter gevoelens van woede en verontwaardiging kon
skuil, het die verlowing nie saak gemaak nie. Maar vanoggend het iets tussen
hulle begin verander, en sy groothartigheid laat haar sonder enige rede om vir
hom kwaad te wees. En nou bevind sy haar op gevaarlike terrein.

Sy vee haar mond haastig af. “Hoor hier, Simon, jy eet nog, maar sal jy my
verskoon? Ek is nou-nou terug.” As jy nie kan wen nie, moet jy vlug.

Sy stap nie kleedkamer toe soos Simon verwag nie, maar praat met die
kelner, wat met ’n breë glimlag deur die swaaideure stap. Die sjef verskyn, en
nadat hy aandagtig na haar geluister het, neem hy haar vaderlik aan die arm
en lei haar die kombuis binne.

Hy het reeds die laaste glas uit die bottel geskink voordat sy weer verskyn,
vergesel van die sjef wat ’n papiertjie aan haar oorhandig. Sy babbel
ingenome met hom en kom sit dan met haar elmboë op die tafel. Sy kry ’n
aanbiddende glimlag van die kelner; hy kry die rekening.

Daar is ’n oponthoud nadat hulle by die bank was, want sy wil weer
supermark toe gaan. “Daar’s nog ’n paar goedjies wat die sjef gesê het ek
moet kry,” verduidelik sy.

Sy maak resepte bymekaar, begryp hy en moet ’n glimlag wegsteek, maar

hy is nie meer so geamuseerd toe hulle by die slaghuis ook stop en hy byna ’n
kwartier lank moet wag nie. En toe wil sy by die kwekery wees.

“Wat op aarde wil jy daar maak?”

“Theodore het gesê vars kruie is ’n moet,” verduidelik sy ernstig. Sy strek


haar been, lig haar heup van die sitplek op en wriemel tot sy haar hand in die
stywe jeans se sak kry, waaruit sy ’n papiertjie vis. “Kyk.” Sy leun na hom
toe oor. “Tiemie, roosmaryn en salie, dis die belangrikste goed. Ek gaan mooi
erdepotjies koop en dan sit ek dit op die vensterbank.”

Hy word bewus van die ontwykende geur van die parfuum wat sy gebruik.

Hy neem die papiertjie uit haar hand. Dit is warm. Omdat sy dit in haar
broeksak gehad het, teen daardie lenige heup.

“My lys asseblief, Simon,” sê sy met ’n laggie. “Waar dwaal jou gedagtes
so?”

“Jy het nie ’n lys nodig as daar net drie goeters op is nie,” is die enigste
antwoord waaraan hy kan dink. Hy steek die papiertjie in sy sak. “Kom ons
gaan kry jou kruie.”

Sy wip by die deur uit. Onder haar trui wip haar borsies.

Hy drentel agter haar aan en probeer die effense wieg van haar heupe
ignoreer. Dan buk sy vooroor om na ’n plantjie te kyk en hy ontdek twee
kuiltjies net bokant die ronding van haar ferm boudjies omdat haar trui
opgeskuif het …

Dis ’n foltering. Hy draai om en tel blindweg die eerste die beste plant op wat
hy raakvat.

“A, jy’t die tiemie gekry,” sê Elizabeth en beloon hom met ’n bedwelmende
glimlag. “En kyk net wat ek gekry het.” Sy beduie trots na ’n versameling
geglasuurde potjies.

Die ergste van alles, dink hy terwyl sy ’n pot eenkant sit, is dat Elizabeth
salig onbewus is van wat in hom omgaan. En dis te verstane. Toe hy twintig
jaar oud was, het hy almal rondom dertig as geheel en al oor die muur
beskou.

Hy kry lag vir homself. Dis net wellus. Hy het bloot te lank gelede by ’n vrou
geslaap en nou reageer sy lyf op alles wat roer. Selfs as dit ’n bogkind soos
Ruben se sustertjie is. Hy stap ’n draai deur die kwekery en maak asof hy in
plante belangstel. Voor ’n houer Taraxacum officinale wat vir hom soos
onkruid lyk, voel hy ’n plukkie aan sy mou.

“Simon?” sê Elizabeth. “Sal jy omgee om na die betaalpunt te kom?”

“Wat’s fout?” vra hy.

“Nee, niks is verkeerd nie, of nie eintlik nie, dis net dat die geld ’n bietjie te
min is.”

“In die rekening wat ek vandag vir jou oopgemaak het?”

“Wel, ja, maar …”

“Vir drie kruieplantjies? Onsin,” sê Simon met oortuiging en stap na die


betaalpunt. “Daar was genoeg vir jou eie uitgawes plus ’n week se
kruideniersware, en buitendien, jy het mos klaar die week se kos gekoop toe
ek in die biblioteek was. Daar moet ’n misverstand wees.”

“Ja, maar,” pleit Elizabeth agter hom aan, “maar onthou, ons moes nog
slaghuis toe gaan, en ek was weer by die supermark, en …”

Hy steek vas by die vier plantjies – daar is ’n ekstra een wat soos ’n varing
lyk – en beskou die vier middelslagpotte met hul abstrakte patrone in
allerhande kleure en teksture. Toe kyk hy na die prys.

“Ek sien,” sê hy en draai na die meisie agter die kasregister. “Julle sal dit
moet terugvat.”

“Maar dis deur ’n bekende kunstenaar gemaak en …” begin Elizabeth


verontwaardig.

“En ons gee dit nou terug,” sê Simon beslis. “Daardie plastiekpotte daar
anderkant is heelwat goedkoper as ’n week se kos en is goed genoeg vir ’n
bietjie kruie op ’n vensterbank.”

Elizabeth vou haar arms en trek haar wenkbroue op. “En dis goedkoper as

’n nuwe stofsuier ook. Net leliker.”


Deksels.

“Ons het baie oulike gewone erdepotjies ook,” sê die meisie agter die
kasregister haastig.

“Vier daarvan, asseblief,” sê Simon stroef.

Volgende keer sit hy haar behoorlik op haar plek, sommer reg van die begin
af, belowe hy homself terwyl hy haar die plantjies in die Land Rover help
laai.

’n Reënbui sak uit net voor hulle by die huis is. Elizabeth tas oor die
paneelbord en sit die flikkerlig aan. “Wat probeer jy doen?” vra Simon.

“Ruitveërs,” kla Elizabeth. “Waar de ongeluk …”

Hy vroetel met die ongemaklike meganisme op die paneelbord en hou asem


op totdat die ruitveërs tydsaam heen en weer begin klak. Soms werk dit nie.

“Is dit wat dit is?” sê sy en trek haar neus op.

“Dis ’n outentieke Lucasruitveërmotor, vir jou inligting. Ek en my broer

het hierdie Land Rover eiehandig oorgebou.”

“Van die skrootwerf gered, bedoel jy,” gryns sy sonder om na hom te kyk.

“Dit hou jou ten minste besig. Met die Land Rover kan jy nie jou grimering
doen terwyl jy bestuur nie.”

Sy giggel.

Asof sy dit glad nie kan help nie, giggel sy weer toe sy die flikkerlig aansit en
van die teerpad af draai. Simon staar by die venster uit. Binnekort sal sy hom
ophou tempteer. Dis nog net drie weke voordat sy en haar kuiltjies hulle eie
koers inslaan. Drie weke en drie dae, as jy vandag bytel.

“Hoor hierso, Simon,” onderbreek sy sy gedagtes. “Ek het besluit ons gaan
nie varkvleis eet nie. Daar hang varkkarkasse in die slaghuis en dit lyk nes
afgeslagte ou tannies. Jy kan in jou moordstories daaroor skryf, maar dit kom
nie naby my kombuis nie.” Sy frons. “Behalwe spek. Spek is orraait.”

Hy lag totdat hulle voor die huis stop en hy haar inkopies help dra.

AGT

Dit reën al heeldag, dink Elizabeth suf. Die skermskut verskyn en skuif stadig
oor die monitor. Dis ’n gesukkel om gewoond te raak aan luister, stop en tik;
luister, stop en tik. Haar skouers is stram van inspanning. Sy sou wat wou gee
om in die bed te klim, maar Simon het ’n stuk werk op die rekenaar gelaai en
gesê hy hoop sy kan dit klaarmaak voordat sy gaan slaap. Sy hoop ook so. Sy
is deksels moeg. Simon en Theodore was Elim toe, maar die wind was so
sterk en koud dat sy tuis gebly het en die huis van dak tot vloer skoongemaak
het. Hulle was net betyds vir aandete – die ertjiesop wat die sjef op
Bredasdorp haar leer maak het. Theodore het gesê dit was geniaal om vars
tiemie by te sit. Sy glimlag. Volgende keer moet sy net onthou om nie die
takkies saam met die blaartjies in die pot te gooi nie. Maar dit was ook nie so
erg nie. Sy het vir Simon verduidelik dis nie rafels nie en hy het nie gekla nie.

Sy wikkel die muis sodat die teks verskyn en probeer die hoë gekerm van die
wind deur die skuifdeur se skreef ignoreer. Bo die stygende lawaai van die
storm luister sy na Simon se stem oor die skootrekenaar se luidsprekers.

Dis alles net veranderings wat hy aangebring wil hê. Opvallend dat hy niks
nuuts byvoeg nie. Sy het uitgevra daaroor, maar hy het net iets van
skrywersblok gemompel.

Ná ’n halfuur strek sy haar arms bokant haar kop en gaap. Klaar. Sy druk die
hoofstuk waaraan sy gewerk het en skakel die rekenaar af.

Die glasdeur ruk asof iemand wil inkom. Sy kyk verskrik op. Dit kom
daarvan as jy ’n moordstorie tik; alles klink onheilspellend. Sy skuif die
getikte velle bymekaar en klop liggies aan Simon se kamerdeur.
“Hier is dit. Ek gaan maar inkruip,” sê sy.

“Dankie.” Simon vryf oor sy oë. “Wag, ek stap saam met jou. Ek moet van
hierdie misoes van ’n manuskrip ontsnap, al is dit net tot by jou deur.”

“Misoes? Dis ’n spanningsverhaal en ek kan jou waarborg ek is gespanne,”

lag sy en maak die deur oop, maar die wind gryp dit uit haar hand en slaan dit
terug in die kosyn.

“Oppas,” keer Simon. Die wind brul bo-oor die kaggel se skoorsteen, en
saam met die geluid kom die eerste harde reën. “Geskrik?”

“Vir ’n bietjie wind?” vra Elizabeth dapper.

Maar Simon is nie geflous nie. “Jy kan hier bo slaap as jy bang is.”

Hier? ’n Paar tree van Simon af? Die idee klink heeltemal te aanloklik.

“Nee wat.” Sy rits haar windjekker toe. “Waarvoor sou ek bang wees?”

“Ek stap saam,” sê Simon. “En moenie teëpraat nie. Hopelik waai die wind

’n paar spinnerakke uit my kop.” Hy gaan haal twee swaar mansjasse van
hulle hake in die gang af en glimlag skeef toe sy een aantrek. Haar hande raak
weg in die moue en die soom hang tot op haar enkels. Hy tree nader en
probeer haar boonste knoop deur die knoopsgat kry. “Jy versuip in die ding,”

sê hy, sy stem onverwags teer.

Haar asem haak iewers vas.

“Knoop toe en rol op daardie moue dat jy aan my kan vashou,” beveel hy.

“Jy sal jou wat verbeel. Hoekom sou ek dit wou doen?”

“Want jy’s so dun, jy gaan wegwaai,” grinnik hy.

Dun, dink sy afgehaal. Nie slank nie, nie mooi skraal nie, net dun. Sy hou
haar baie doenig met die ry groot knope, maar toe die ligte skielik flikker, bly
sy botstil staan.

“Ja-nee,” sê Simon. “Ons kan ons maar klaarmaak vir ’n kragonderbreking.”

“Ek het ’n pakkie kerse in die besemkas gesien,” sê Elizabeth en draf


kombuis toe. Die geraas is erg genoeg, as dit boonop donker moet wees, kry
sy die piep.

Sy is by die stoof toe die ligte doodgaan.

Sy weet sy is laf. Al wat sy hoef te doen is om haar arms uit te strek en te


voel waar die besemkas is, maar sy is nie gebore in staat om te beweeg nie.

Sy sweer sy hoor elke enkele mal moordenaar waaroor Simon skryf, hier by
haar in die kombuis.

“Simon!” roep sy benoud.

“Bly staan net waar jy is. Ek sal jou kry,” antwoord hy.

Sy hoor hom in ’n stoel vasloop. “Oë soos ’n kat,” stel hy haar gerus.

Sy weet wat hy doen. Toe sy klein was en Ruben haar bang gepraat het, het
Simon altyd haar aandag afgelei deur haar te laat lag. “Hier’s …” begin sy sê,
maar hy tref die rand van die kombuistafel wat met ’n kort krapgeluid oor die
vloer skuif, swets binnensmonds en struikel in haar vas. As die stoof nie
langs haar was nie, het hulle geval.

“Hier’s jy,” lag hy. “Veilig in my arms.”

Met haar gesig teen sy growwe jas is hy ’n kolom van warmte teen die koue
nagwind wat om die huis se hoeke jammer en huil, en die donker is nie

meer ’n bedreiging nie – dis ’n plek. Dit is waar sy toe-oë in Simon se


omhelsing staan, vas teen hom.

Hy beweeg feitlik onmiddellik weg. “Of liewer, hier’s jy, veilig in my arm.
In die enkelvoud. Die vraag is net, waar’s ons?”

“By … by die stoof.” Haar stem klink amper normaal.

“Reg,” sê Simon ná ’n oomblik en du haar saggies eenkant toe. Hy voel-voel


oor die deure, en sy hoor ’n papieromhulsel skeur. Daar is ’n stiltetjie.

“En nou moet ons vuurhoutjies kry,” sê hy peinsend.

Sy bars uit van die lag. “Wat van by die kaggel?”

“Slim. Ek sal jou soontoe lei,” sê hy en loop in die stoof vas.

“Jy is die lompste vent,” lag Elizabeth.

“Sê sy sarkasties, maar los nogtans nie die brawe held se mou nie.”

“Maar dit klink asof die hele huis rittel,” kla sy.

“Dis net lug,” troos Simon, “lawaaierige lug. Dink só daaraan. A, hier’s die
vuurhoutjies. Jammer, ek kan dit nie met een hand trek nie. Vat hier.” Hy
skud die boksie.

Elizabeth se vingers beweeg oor sy mou, oor sy pols, en vind dan die warm
holte van sy hand waar sy die vuurhoutjies raakvat. Sy vingers vou lossies
om hare. “Het jy dit mooi stewig?”

“H’m.” Haar stem klink maar ylerig. Effens bewerig steek sy die kers aan.

Twee kersvlammetjies weerkaats in Simon se bruin oë. Die wind tier om die
huis en dreun oor die dak soos veraf donderweer. Hy kyk af. “Ek kan
vuurmaak,” sê hy saggies. “Is jy seker jy …”

“Ek gaan wynbottels haal vir blakers,” stamel sy. “Kom ons los hierdie kers
hier bo, dan steek ek myne in my kamer aan.”

Buite snak sy na asem toe die volle krag van die wind hulle tref. Dis soos

’n reusagtige, onsigbare hand wat haar van die trap wil afstoot. Simon slaan
sy arm om haar en sy klou bibberend aan hom vas. Iets kletter en rol teen die
muur vas en sy roep verskrik uit.

“Dis net ’n emmer,” lag hy.

Sy oorweeg dit vlugtig om haar laaste greintjie trots bymekaar te skraap en


haar los te wikkel, maar dan gewaar sy iets – ’n donker kol wat soos klere
wapper en flap. Sy steek vas. “Hier’s iets op die trap,” waarsku sy uitasem.

Hy buk langs haar af. “Iemand,” hoor sy hom sê. “Jy sal my moet help. Vat
die ander arm dat ons hom boontoe kan neem.”

In die sitkamer, wonder bo wonder, flakker die vlammetjie van die kers
steeds, en in die dowwe liggie sien Elizabeth wie dit is. Dis die ou man van

die huis langsaan. Dun haarslierte kleef aan sy gesig, en daar sit blaartjies aan
sy hand vas.

“En nou, Luca?” vra Simon.

Luca steek sy hande bewend na Elizabeth uit. ’n Blye glimlag van herkenning
sprei oor sy verweerde, nat gesig.

“Amanda,” sê hy.

“Hy dink nog altyd ek werk vir die belastingkantoor,” sug Elizabeth.

Hulle het hom – onder heftige protes in rollende, verontwaardigde Italiaans –

uit sy nat klere gekry. Nou sit hy in ’n sweetpakbroek en ’n sagte trui van
Simon, toegewikkel in ’n kombers op die rusbank. Dié het hulle nader
geskuif aan die vuur wat nou in die kaggel knetter.

Elizabeth flikflooi en pamperlang Luca om die melk te drink wat sy in ’n


kastrolletjie op die vuur warm gemaak het. “Jy’s yskoud, oupa,” berispe sy
hom saggies. “En dit was onverskillig om in hierdie stormnag rond te loop.”

Sy oë is so oop en vol vertroue soos ’n kind s’n, maar hy praat nie weer met
haar nie. “Moet ons ’n dokter laat kom?” vra sy en keer toe die beker in sy
hand kantel.

Simon antwoord nie. Hy staan na haar en kyk. Sy rug is na die vuur toe, en
met sy gesig in die skadu is dit onmoontlik om sy gesigsuitdrukking te lees.

Sy kyk vraend na hom.

Hy draai weg. “Ek gaan sy dogter opklop. Sy weet seker nie waar hy is nie.”

Luca het ingesluimer teen die tyd dat Simon terugkom, maar sonder om
heeltemal wakker te word, verstewig hy sy greep op haar hand toe sy wil
opstaan.

“Dit los die probleem op van waar jy vannag slaap,” grinnik Simon en trek sy
druipnat jas uit.

“Dis beter dat ek by hom bly,” sê Elizabeth selfbewus. “Dit sal hom nog
meer verwar as hy hier in ’n vreemde plek wakker word en niemand is by
hom nie. Wat het jy toe uitgevind?”

“Sy dogter was nie daar nie, net die kleinseun. Mario. Gina is glo by haar
oudste kind in Bredasdorp om met ’n nuwe baba te help. Volgens hom dwing
Luca hiernatoe vandat hy gesien het hier is weer mense, en vanaand neem hy
toe sy kans waar. Hy het dit al voorheen gedoen, maar nog nooit wanneer ek

hier is nie.”

“Miskien het hy die mense geken wat oorspronklik hier gewoon het. Vir
Amanda of iemand. Wel, ons kan hom nie in hierdie weer terugvat soontoe
nie. Wanneer dit lig word, kan ons weer kyk.”

“Dis wat ek vir Mario gesê het. Ek het hom teruggestuur bed toe en die
dokter se telefoonnommer gevra, ingeval ons dit nodig kry, maar ek is nie
regtig bekommerd nie. Luca ly aan demensie, maar verder skort daar niks.”

Hy kyk bejammerend na die ou man. “Luister, ek gaan haal ’n sponsmatras in


die gastekamer. Jy kan tog nie heelnag regop sit nie.”

“En jy?”
“My kamer is soos ’n yskas. Ek gaan ’n bietjie by die vuur sit en na my
manuskrip kyk.”

“By kerslig?”

“En vuurlig,” grinnik hy. “Erg poëties.”

Terwyl Simon die matrassie oopgooi en beddegoed daarop laat val, trek sy
haar hand versigtig uit Luca se vingers los. Sy gaan hang haar jas op en kniel
besluiteloos op die duvet.

“Ek gaan nie jou pajamas haal nie,” sê Simon met ’n laggie. “Jy sal maar in
jou klere moet slaap. Of in my slaapklere, maar dit sal te groot wees.”

Die jas het haar klere droog gehou; nogtans oorweeg sy die gedagte aan
Simon se nagklere. Groot, sagte nagklere met moue en pype wat te lank is en
wat oral op onverwagte plekke oopgaap. Oor haar kaal lyf.

Klere klink skielik na ’n baie goeie idee. Lae en lae klere.

Of dalk nie …

Simon lag weer. “En moenie so geïnteresseerd lyk nie. Ek het jou al ’n slag
of wat in die bed gesit, maar nou is jy oud en lelik genoeg om self daar te
kom. Toe. Kruip in.”

“Beslis oud en lelik genoeg.” Sy skud die laken uit en vou dit oor die matras.
Dis nie nou die tyd om te onthou hoe hy na haar gekyk het toe hulle in die
restaurant was nie. Sy weet mos hy wou haar net ongemaklik laat voel.

Hy het na haar gekyk asof sy ’n vrou is sodat sy moet verstaan sy is net ’n ou


meisietjie, vervlaks, en toe raak sy bang vir die donker en gedra haar soos ’n
kind, en hy begin hom soos ’n oom gedra. Deksels. Hy is nie ’n oom nie, al
dra hy nou afskuwelike insteekskoene wat met Velcro vasmaak omdat hy nie
veters kan hanteer nie. Sy grinnik. Beslis nie skoene waarmee jy meisies
agter jou verloofde se rug in die versoeking lei nie.

“Wat is so snaaks?” vra Simon lui.


“Jou aaklige skoene.” Sy raak van haar eie skoene ontslae en trek die duvet
oor haar.

Hy trek ’n gesig asof skoene benede sy aandag is.

Sy wikkel haar kop in die kussing in en lê en kyk onder haar wimpers deur na
Simon. Hy het sy manuskrip gaan haal, maar sy vermoed sy aandag is nie ten
volle by die papiere op sy skoot nie, want hy verskuif rusteloos en leun
vorentoe om nog hout op die vuur te gooi.

“Wie is Lionel?” vra hy meteens saggies.

Sy frons. “Hoe nou?”

“Jy het nou die dag gesê Lionel sal jou kom haal. Ek het net gewonder wie dit
is.”

“O, dáárdie Lionel. Hy is ’n vriend – ’n makelaar wat my met my geldsake


gehelp het, maar deesdae is hy so verlief op sy nuwe meisie dat ek maar min
van hom te siene kry.” Arme Lionel val sweerlik agteroor as hy hoor wat
Simon pas gesê het, maar dit was toevallig die eerste naam waaraan sy nou
die aand in die hitte van die oomblik kon dink.

’n Klein glimlaggie maak sy verskyning. “Net gewonder,” sê Simon en begin


lees.

Opgekrul onder die duvet luister Elizabeth na die wind. Vensters ratel.

Elke skreef huil en fluit, en die reën klink soos haelkorrels teen die ruite.

Stadigaan word sy bewus van die wye donkerte wat die huis omring, van die
onstuimige swart water wat in die verte teen die rotskus slaan, en dat die
wind soos die see self om die huis breek en kolk.

Die voordeur stamp-stamp in die kosyn. Simon staan op en draai die sleutel
in die slot sodat die deur ophou raas, en stap deur die huis. Sy hoor hoe hy die
gordyne toemaak en die deurstuiters skuif sodat niks kraak of klap nie. Dan
hurk hy voor die vuur, gooi nog hout op en gaan stil op die leunstoel sit. Hy
skuif die kers nader aan hom sodat die liggie op die papiere op sy skoot val.
Sy maak haar oë toe. Dis veilig hier binne by Simon.

In die koue maanlig loop sy oor die houtbruggie op die plaas. Onder haar
voete, deur die skrewe tussen die planke, sien sy die swart water maal en voel
hoe dit aan die brug ruk. Die reling sidder onder haar hand. Sy stap vinniger,
maar haar tas is swaar en hou haar terug. Die hout kreun. Beangs laat val sy
die tas en vlug struikelend terug. Agter haar knars en breek die brug finaal en

stort in die rivier. Sy hardloop op die donker rivierwal, soek na die lig wat in
die vensters aan die oorkant van die stroom moet brand, hardloop met ’n
groeiende gevoel van onheil onder die eiketakke deur totdat sy die gewels
sien. Alles is donker. Die vensters van die huis waarin sy grootgeword het,
gaap leeg uit ’n murasie.

Sy ruk met ’n gesmoorde kreet orent.

“Elizabeth?” sê Simon en streel haar hare van haar natgeswete voorkop weg.
“Nagmerrie?” vra hy kalm.

Sy kyk verskrik om haar. Luca slaap, en Simon hurk langs haar. Toe sy nie
praat nie, staan hy op en gooi nog hout op die vuur. “Ek is hier, slaap maar
weer.”

“Nee,” protesteer sy bewend. “Kan ek … dink jy ek kan koffie maak?”

Hy rek hom uit. “Kan seker, dis al ná aan seweuur.”

“Krag nog af?”

Hy knik en vryf oor sy oë. “Naomi se man het ’n kampketel hier iewers in die
kombuis.”

“Ek sal die kers bring.” Sy staan haastig op.

“Dit was omtrent ’n nag vir hekse en verlore siele,” sê Simon toe hulle in die
kombuis kom.

“Moenie so sê nie,” pleit Elizabeth. Sy kyk verleë weg onder sy verbaasde


blik en pak bekers op ’n skinkbord. “Was jy heelnag wakker?”

“Nie heelnag nie. Ek het voor die vuur aan die slaap geraak, maar ek was
wakker toe jy gepraat het.”

Dis asof die wind in die huis ook is. Daar is ’n skielike trek wat net so vinnig
verdwyn as wat dit gekom het. “Vertel my,” sê Simon toe sy haar arms
rillend om haar lyf vou. “Dis ’n manier om nagmerries te besweer.”

Sy is skielik na aan trane.

Hy leun teen die wasbak met sy enkels gekruis en wag dat sy moet praat.

“Ek het gedroom ek kan nie meer teruggaan huis toe nie.” Dit klink baie flou.

“La Fontaine?” vra Simon.

Sy knik en sit die ketel onder die kraan, maar vergeet om dit oop te draai en
staar na die venster.

Hy raak aan die ring aan haar hand wat op die ketel rus. “Dis jou ma s’n, nè?
Sy het dit ook altyd gedra. Net soos jy.”

“Ek kan haar nie onthou nie. Ruben het net een keer gesê sy het altyd gelag,
en dat sy in die hemel is. Ek dink hy het na haar verlang, maar ek het

vir Pappa gehad en hy was goed vir my.”

Simon vryf ruweg vertroostend oor haar arm. “Het jy nie omgegee toe hy
weer trou nie?”

“Nee, hoekom sou ek? Hermien het hom gelukkig gemaak.”

“Maar dit het jou La Fontaine gekos. Ruben wou nie boer nie, en as sy nie
daar was nie en nie ’n seun gehad het nie, sou die plaas joune word.”

“Weet jy, Simon, ek was baie gelukkig daar, maar ek sou nie reg aan die plek
laat geskied nie. Daar is Hermien anders. Sy bou die landgoed op vir Brink.
’n Mens kan nie byhou met al haar planne nie. As dit nie ’n crèche is nie, is
dit ’n proelokaal of ’n restaurant. Op die oomblik is sy besig om die ou
arbeidershuisies by die rivier op te knap om dit aan toeriste te verhuur. Ek
sou nie. As dit van my afgehang het, sou alles gebly het soos dit is, en dis ’n
resep vir teëspoed.”

Hy glimlag skeef. “Jy’s amper te goed om waar te wees, Elizabeth.”

Haar wange brand onder die goedkeuring in sy oë. Bang om te verraai


hoeveel dit vir haar beteken, skuif sy die ketel en tap water in. In elk geval,
niemand is lus om alewig ander mense se vervelige stories aan te hoor nie.

“Jy kan maar ophou troos,” spot sy. “Kyk daar, dit word lig.”

Die dag het nog nie gebreek nie, maar die wolke trek weg en daarmee saam
maak die donker langsamerhand plek vir die grou, onwillige daglig.

“Verbeel ek my of is die wind nie meer so sterk nie?”

“Verbeel ek my of is dit Luca wat daar stap?” Simon kyk buitetoe.

“Ek het hom nie hoor uitgaan nie. Het jy?”

Hy skud sy kop. “Kyk daar om sy skouers. Hy’t my kombers gesteel.”

“Ag, dis koud, Simon. Ons kan dit later gaan haal.” Sy los die ketel en maak
haar hande bak teen die vensterglas. “Hy kyk hierheen.”

“Soos ’n ou minnaar wat in die verkeerde huis verslaap het en hom nou uit
die voete maak,” snorklag Simon langs haar.

NEGE

Dit word ’n winderige oggend, maar die krag van die storm het afgeneem.

Simon speel met woorde in sy kop: blink, winderig, waterig. Hy is lighoofdig


van min slaap – baie minder as wat hy teenoor Elizabeth wou erken – maar
hy is te rusteloos om in die huis te bly. Hulle ry om ’n gasstofie te gaan koop.

“’n Mens weet nooit hoe lank ons sonder krag moet klaarkom nie,” sê hy
pessimisties.

“Ek hoop in hemelsnaam jy is verkeerd,” sê Elizabeth bekommerd en skuif


die Land Rover se venster toe.

“Hoekom? Is jy verlore sonder jou elektriese krultang?” terg hy.

“Moenie laf wees nie.” Sy vat selfbewus aan haar verwaaide hare. “Ek dink
aan die hoender wat ek vandag wil gaarmaak.”

Simon grinnik. “As jy jou oor hoender bekommer, het jou prioriteite beslis
verander.”

Sy maak asof sy hom nie hoor nie, kyk net skuins na hom met haar ligte oë.

Reënoë. Oë wat soms soos ys kan lyk en soos vuur kan vlam, dink Simon.

Wrakhout en verstrengelde bamboes lê in drifsels en some langs die see. In


die kafee is die koerantvoorblaaie vol foto’s van bome wat op huise geval het
en mense wat verdwerg word deur reusagtige branders wat vlak voor hulle
teen kaaie breek.

“Die see kom in,” sê Allers van die kafee toe hy die gasbottel na die Land
Rover toe dra. “Het julle gesien die water was vannag bo-oor die pad by
Stinkbaai?”

“Ek het gesien,” sê Simon.

“Een van die dae is als see,” sê Allers swartgallig. “Nietig is die mens en
nietig sy werke.”

“Dit is so, Allers,” sê Simon afgetrokke en groet.

Soos die los wolke voor die son verbyjaag, blits en verdof die skerp lig in die
waterplasse. Stukkende spieëls, dink Simon.
“Ry vuurtoring se kant toe,” sê hy vir Elizabeth met sy aandag by die hoë wit
kuiwe wat die wind uit die golwe kam.

’n Soort koerslose opwinding begin in hom stu. “Hier af,” beduie hy.

“Kyk hoe smal is die pad. Waar gaan ek draai?” kla sy.

“Met ’n Land Rover kom jy oral,” lag hy haar uit. Sy stribbel teë totdat hulle
stilhou, maar hy trek bloot haar jekker se kap oor haar kop en klim uit.

Die stormsee wis alle ander geluide uit. Vuilgeel skuimbolle verflenter in die
wind en rol en kleef teen die spoelklipperhellings. Hy gryp haar hand en trek
haar saam met hom tot op ’n rotsbank wat skuins die see inloop. Halfpad na
die verste punt gaan hy staan. “Hulle sê jy moet vir die vierde brander wag,”
sê hy. “Dis die grote.”

Sy lag. Hy sien sy is net so vasgevang soos hy deur die towerkrag van die
helder, wilde dag. Die branders dreun en loop hulle te pletter teen die rotse.

Sy druk verby hom, nader aan die bulderende geweld, haar arms wyd gestrek
om haar balans te behou. Hy wil agter haar aanroep dat sy versigtig moet
wees, maar dis onnodig. Die breë klipplaat loop skuins boontoe en word deur
rotsblokke beskut. Lank voordat sy hier afgeslaan kan word, sal sy papnat
gespat wees en omdraai. Die water sis terug oor die klippe. Die wind rem aan
hul klere en pluk die kap van Elizabeth se hare af sodat dit pikswart
losfladder. Sy swaai haar arm om staande te bly.

En dan tref die grote waarvoor hy gewag het die rots. Dit bars met ’n
donderslag teen die klip. Instinktief krimp Elizabeth weg en gooi haar arms
boontoe om haar kop te beskerm. Rondom die rotspunt groei seeskuim en
druppels in die lug op. Sy gedagtes tuimel. Alles wat hy voor hom sien, glip
en stol in ’n patroon vir sy boek. ’n Asembenemende oomblik lank hang die
glinsterende sproei teen die bloute, fyn soos ’n wolk amandelbloeisels,
voordat dit afstort oor Elizabeth wat omdraai en struikelend na hom toe vlug.

Water stroom uit haar hare en oor haar gesig. Haar wange is rooi van die
koue; die vreemde, kleurlose oë is oopgesper van laggende skrik. Met sy
gesonde arm vang hy die gillende, druipnat figuurtjie teen hom vas.
Dis die natuurlikste ding op aarde om haar te soen.

Die bewing in haar liggaam verstil; haar asem raak weg teen sy mond.

Skamerig, amper onwillig, reageer sy. En toe is dit onmoontlik om op te hou.

Hy gryp haar vaster teen hom aan en met die donderende see in sy ore
plunder en stroop hy roekeloos, skaars bewus van haar hande wat halfhartig
teen sy skouers druk. Hy wil hê sy moet meegee teen sy lyf en hom ook
vashou.

Maar haar hande bly tussen hulle huiwer. Hy lig sy kop. Haar lippe is rosig
en geswolle van sy soen en in haar oë sien hy die ontwaking van begeerte. En
verwarde onbegrip.

Sy is nie hiervoor gereed nie.

En hy ook nie. Nie met Elizabeth nie. Wat het hom besiel? Dis nie ’n ervare
vrou soos Linette wat weet ’n soen lei na sy bed, maar nie na sy hart nie.

Ná ’n oomblik kry hy dit reg om te praat. Hy slaag selfs daarin om met net
die regte graad van ongeërgdheid te sê: “My fout. Ek was ’n bietjie
meegevoer.” En toe kry hy dit reg om te loop voordat hy ’n groter gek van
homself maak as wat hy reeds is.

Elizabeth vee die nat haarslierte met bewende hande uit haar gesig en staar
hom agterna, te verslae om te beweeg. Hy is verloof en sy het dit onthou, en
daarom móés sy hom wegdruk. Wat anders kon sy doen? Toelaat dat hy met
haar die tyd verwyl tot hy weer by Linette uitkom? Maar dat hy dit met so ’n
onsinnige verskoning afmaak asof dit niks is nie, maak seer.

Hy is al amper by die Land Rover voordat sy haar eerste onsekere tree agter
hom aan gee. Niks wat sy al ervaar het, het haar hierop voorberei nie.

Daar was nie tyd vir die kil kyk wat sy tot ’n fyn kuns vervolmaak het nie, en
van die taai klap waartoe jy jou wend as ’n kyk nie genoeg is nie, het sy
totaal vergeet. Buitendien, wat sy ook al voel, sy is nie kwaad nie. Sy
vermoed hy is. Al was sy stem ook hoe lig en onverskillig, het sy die gevoel
gekry hy is woedend.

Hy slaan die deur toe. Hard. Sy stuit onwillekeurig en sukkel dan verder teen
die steilte uit met haar nat klere wat aan haar vasklou.

Sy klim in. “Si …”

“Jy sal agteruit moet ry,” val hy haar in die rede. “Dan draai jy anderkant
daardie bos.”

Aarselend haal sy die sleutel uit haar sak en steek dit in die aansitslot.

Hoekom wil hy haar nie kans gee om te praat nie? Dis nie hoe dit werk nie!

Sy het al baie soene afgeweer met die lighartige verduideliking dat vriende
mekaar nie links en regs behoort te soen nie, en niemand het só gereageer nie.

Dit dring tot haar deur dat die rolle dié keer omgeruil is: Dis wel sy wat die
soen beëindig het, maar dis hy wat die lighartige verduidelikwerk doen.

Sy hou niks daarvan nie.

“Ek hoop die krag is al aan,” sê hy ingedagte.

Sy staar hom ontsteld aan. Wat het die kragonderbreking te maak met wat pas
gebeur het?

Die harde trek op sy gesig versag. “Komaan. Dis nie die einde van die wêreld
nie,” sê hy. “Dit was net ’n soen.” Hy glimlag skeef en vee met ’n
onverskillige gebaar ’n nat stringetjie hare van haar wang af. “En nou moet jy
ry. Ek is regtig haastig.”

Toe sy by die teerpad indraai, kom Theodore van voor af aangestap. “Is die
krag al aan?” roep Simon deur die venster. Sy hou stil.

“Ja,” sê Theodore, “maar wat maak dit saak? ’n Kaggelvuur is mos net so
lekker.”

“Dis die einde van my skrywersblok, Theodore,” lag Simon. “Ek het pas ’n
idee vir my boek gekry en dis alles aan Elizabeth te danke. Nou’s ek nie in
kaggels geïnteresseerd nie.”

Theodore se oë glinster op ’n manier wat Elizabeth se rug laat regop trek.

“So. Het Elizabeth jou ’n bietjie daar onder op die rotse geïnspireer?”

“Eintlik is sy net natgespat en toe hol sy weg vir die brander, maar ja, dis
waar die idee vandaan kom. Maar nou moet sy droë klere aantrek en ek wil
by jou bandmasjien kom.”

Sy het nie weggehol nie, sy het gevlug. Sy gluur Simon aan, maar hy kyk nie
eens na haar nie.

“Mooi,” grinnik Theodore. “Vat hom weer see toe as hy vashaak, Elizabeth.”

Elizabeth trek stadig weg. Sy het hom net aan sy vervloekte boek laat dink en
toe kry hy allerhande ander gedagtes, dink sy verneder. Soos dat hy haar durf
soen. En dat sy weggehol het.

“Gaan jy heelpad in eerste rat ry?” vra Simon.

“Ek sal as ek wil,” mompel Elizabeth onderlangs, maar haar veglus is


daarmee heen. Dikmond en bedremmeld wissel sy ratte en ry strandhuis toe.

“Sal jy omgee as ek jou badkamer gebruik?” vra sy stuurs toe hulle uitklim.
“Ek is nat en kry koud en wil eerder bad as stort.”

“Solank jy nie ’n klomp onderklere in die plek ophang nie, kan jy maak soos
jy lus het,” sê Simon en draf die trap op.

En daarmee speel hy met haar laaste illusie klaar. ’n Betekenislose soen is erg
genoeg, maar wat sy nou begin vermoed, is veel erger: As daar ’n man by
hom op die rotse was, het hy hom op die blad geklop, maar nou was dit
toevallig ’n meisie, en meisies word gesoen. En as hulle goedkoop en
gewillig is, loop dit uit op die soort speletjie wat met onderklere in sy
badkamer eindig.

Sy wil nie meer sy badkamer gebruik nie. Onder haar stort staan sy en
bibber totdat sy besef die water sal nie warmer word nie. Sy is skaars in die
kombuis toe Simon sê hy het ’n nuwe sinopsis op die rekenaar gelaai wat hy
so gou moontlik getik wil hê. En toe loop hy ongeduldig heen en weer deur
die sitkamer terwyl sy die een tikfout na die ander maak.

“Wat nou van die vorige stuk wat jy geskryf het?” vra sy.

“Maak vuur daarmee,” sê hy en verdwyn na sy kamer toe.

Elizabeth trek ’n repie borsvleis uit die gebraaide hoender wat nog amper
onaangeraak op die opdienskottel voor haar lê. Simon het geëet sonder om te
proe, na haar gekyk sonder om haar te sien en sy stoel agteruit gestoot sonder
om dankie te sê. En toe het hy aan sy storie gaan werk. Ook maar ’n genade,
want dit beteken hy het nie onraad vermoed toe daar nie groente by die
hoender was nie. Sy staar na die vuilgoeddrommetjie.

Sy breek ’n hoendervlerkie af en eet dit met haar vingers terwyl sy by die


venster uitkyk. Reën sif weer onafgebroke uit die wolke, maar die wind het
bedaar. Dis moeilik om te glo dit het haar in die nag skoon bang gewaai. So
bang dat Simon haar moes troos. En op die rotse …

Sy wil nie daaraan dink nie. Die roekeloosheid daarvan, die vurige opeis van
haar lippe asof dit sy reg is, en toe …

En toe niks. ’n Verskriklike rusteloosheid jaag haar uit die stoel op. Sy bêre
hulle koffiebekers en trek ’n laai oop om die lepels weg te pak. Daar is
krummels, ontdek sy toe sy haar voorvinger vieserig oor die laai se boom
trek. Hieraan kan sy ten minste iets doen, selfs al kan sy niks anders
ongedaan maak nie. Sy trek die laai heeltemal uit en pak die messegoed op
die tafel.

Wie bedrieg sy nou eintlik? Sy het hom nie vreeslik hard probeer wegstoot
nie. En terwyl sy dan nou so eerlik met haarself is, die gedagte het nie eens
by haar opgekom dat hy haar sou los nie. Sy draai die laai onderstebo en
skud. Sy het gedink … wel, met die paar breinselle wat in daardie
ontploffende oomblik van begeerte en skrik nog min of meer gefunksioneer
het, het sy besef sy moet ophou. Onmiddellik ophou. Maar elke vesel in haar
liggaam het geskreeu dat sy en Simon iets begin het wat klaargemaak moet
word.

Sy skaam haar vir haarself.

Sy swaai om en pluk ’n lap uit die besemkas, maar sy pluk te hard en die ou
kookboek wat daar ingestop is, foeter van die rak af. ’n Klomp blaaie glip

uit die rugkant, die harde omslag se punt tref die grond en alles val
uitmekaar. Swetsend maak sy die blaaie bymekaar. Wat soek die ding hier?

Dit was waarskynlik tussen die rommel wat saam met ou huise kom wanneer
jy dit koop. Toe sy die omslag bo-op die blaaie wil sit, sien sy die skutblad.

In verbleikte ink staan daar geskryf: “Aan my onkundige bruid, mevrou


Amanda Cilliers. Al my liefde, Gersom.”

Amanda. Sy sit terug op haar hurke. Dis wat Luca haar die vorige nag
genoem het. Maar die gedagte aan Luca herinner haar aan Simon wat gesê het
Luca lyk soos ’n ou minnaar, en dit bring die toneeltjie op die rotse so helder
voor haar gees dat sy sweer sy kan Simon se harde lyf nou en hier teen haar
voel.

Sy vou haar hande oor haar gesig. Hemel, wat moet sy doen? Dis nie net haar
liggaam wat haar verraai het nie, dis meer. Veel meer. Sy is al weer verlief op
Simon. Net soos destyds.

Mismoedig kyk sy tussen haar vingers deur na die krummels op die vloer.

Sy tel die boek op en sit dit eenkant, vee die krummels meganies op en maak
die laai skoon. Verliefdheid waai oor. En totdat dit gebeur, het sy haar trots.

As hy haar betekenislose soene kan gee, kan sy wys hoe min dit haar raak.

Hy sal nooit agterkom hoe sy voel nie. Sy stoot die laai in en bly staan met
haar hand op die knop. Al wonder sy. As dit is hoe Simon soen wanneer hy

’n bietjie meegevoer is, hoe sal hy dit doen as hy heeltemal beheer verloor?

“Elizabeth?” roep Simon.


Haal diep asem, herinner sy haarself. “Nou daar!” roep sy. Perfek. Dis hoe
iemand klink wat glad nie omgee nie.

“O, hier’s jy,” sê Simon in die kombuisdeur.

Sonder dat sy wou, kyk sy na sy mond en voel hoe sy vuurwarm bloos.

“Ek het ’n kort, rowwe opsomming van elke hoofstuk se inhoud gemaak,”

sê hy. “Sal jy dit gou tik? Moenie lol met paragrawe nie, dis net ’n gids. Ek
wil dit graag …”

“So gou moontlik hê,” maak sy saam met hom die sin klaar.

Hy grinnik vaagweg, kyk na die gebraaide hoender asof dit die eerste keer is
dat hy dit sien en breek ’n boudjie met sy hand af.

“Gaaf,” mompel hy met sy mond vol hoender en drentel uit.

Dis drieuur in die oggend toe sy die laaste woord transkribeer en die drukker
aanskakel. Sy wieg op haar voete van uitputting terwyl sy wag. Met

’n sug skakel sy die rekenaar af.

In die stilte klink Simon se stem gedemp op. Hy werk nog altyd.

By die voordeur staan sy besluiteloos met haar hand op die knip. Toe gaan
haal sy Amanda se kookboek en dra dit saam ondertoe.

In sy kamer hoor Simon die voordeur toegaan. Hy staan op en stap tot by sy


venster. Haar lig word aangeskakel. Hy bly roerloos staan. In sy verbeelding
sien hy die klein slapenstydritueeltjie: hoe sy tande borsel, vakerig slaapklere
aantrek, bibberend tussen die koue lakens inwikkel. Ná ’n rukkie is dit weer
donker.

Hy laat sak sy voorkop teen die koue ruit.

Sy slaap so ’n klein entjie van hom af, in dieselfde huis, onbewus van hom.
Gisternag was dit sy naam wat sy uitgeroep het toe sy in haar drome bang
was. Maar dit was gisternag. Vanoggend het sy hom weggestoot.

Wat ook al gebeur – en daar sal niks gebeur nie, daarvoor sal hy sorg – dis

’n herinnering wat hom altyd sal bybly. Haar lippe onder syne. Sag, ferm,
koud. Soos bloeisels buite in die reën.

Hy probeer die banale woorde herroep waarmee hy hom teen die kyk in haar
oë wou verdedig. Hy was meegevoer, het hy gesê. Hy snorklag ten koste van
homself en draai van die venster af weg. Ja, hy was. Die donderslag van die
brander, die seesproei, die meisie wat na hom toe vlug – hierdie beeld het
inderdaad bo-oor die idees vir sy boek geskuif sodat hy binne ’n enkele
oomblik alles op ’n nuwe manier gesien het. Maar toe sy lippe oor hare sluit
in daardie impulsiewe, triomfantelike soen, het hy nie meer aan die boek
gedink nie.

Hy skakel die bandmasjien af, en toe sy eie lig. Sukkel met een hand uit sy
klere en klim in die bed. Lê met sy arm onder sy kop gevou en staar na die
donker terwyl die ure verbytik en die plafon stadigaan vorm aanneem in die
voordaglig. Dan draai hy sy wang met ’n sug na die kussing en maak sy oë
toe.

TIEN

Elizabeth draf tot by die vuurtoring en ginnegaap met Allers wat van die rotse
af hengel. Sy tel skulpies en ronde klippies en ’n stukkie hout op wat mooi
langs die kaggel sal lyk, knoop ’n geselsie oor gesondheidsbrood aan met
Allers se skaam vrou voor die kafee en kies ’n nuwe roete huis toe. Sy is
amper verby die huis wat hoog op die heuwel staan toe Theodore haar van
die stoep af groet.

“Dan is dit waar jy bly,” sê sy en plof langs hom op die bank neer.

“Koffie? Of is dit te ongesond as jy draf?”


“Die geselskap sal ook lekker wees. Dis al dae dat Simon nie praat nie.

Altans nie met my nie. Op band praat hy hom hees, maar vir my sê hy net

‘Tik gou dit’ of ‘Is jy al klaar met dat’. Ek gaan nog vasgroei aan daardie
skootrekenaar.”

Theodore lag en steek sy sigaar aan.

“Hy eet ook nie. Ek het al gebraaide hoender met slaai gemaak, en toe wors
in die pan. Met slaai, natuurlik. Én tjops.” Sy huiwer. “Ook met slaai.

Elke keer sê hy hy kom, en ure later dwaal hy by die kombuis in en eet net ’n
paar happe koue kos. Ek is sommer lus en los ’n blik vis en ’n bliksnyer op sy
bord en loop weg met die Land Rover.” Sy skop-skop wraaksugtig teen die
stoepmuurtjie.

“’n Blik wat die arme man nie kan oopkry nie.”

“Dis die idee,” gryns sy.

Theodore kyk sydelings na haar. “Dis nou vis met slaai wat jy vir hom los,
neem ek aan.”

“Slaai is my sterk punt,” grinnik sy. “En van sterk punte gepraat, ek het ’n
kerrieresep gekry. Hoe lyk dit? Wil jy vanaand saameet?”

“Dankie, maar Celeste kom vanmiddag,” sê Theodore verskonend.

“Kerrie met barisjap en jeera en gemmer,” belowe Elizabeth slinks.

“Dan bring ek haar saam. Hoe laat moet ons daar wees?”

“Kom vroeg, dan laat ek jou toe om die rys te maak.”

Theodore se skouers skud. “En is dit die rede vir die gasvryheid?”

“Ag toe, Theodore, jy kan my nie in die steek laat nie,” pleit sy, “my rys is
altyd ’n ramp.”
“Toemaar, ek sal daar wees.”

Sy glimlag verlig. “Ek kom nie so lekker met groente oor die weg nie. En
eiers! Moenie voor my van spek en eiers praat nie.” Sy kyk oor die see uit en
sug. “Nie dat dit saak maak nie, hy kom dit nie eens agter nie. Die laaste paar
dae sien ek hom skaars.”

“Wees maar geduldig met Simon. Hy kon ’n hele tyd lank glad nie skryf nie
en vir ’n skrywer is dit soos ’n doodsvonnis. Dis goeie nuus dat die idees so
maklik kom, al maak dit die lewe vir jou moeilik.” Hy staan op. “Kom, ek wil
koffie maak. Jy kan sap kry as jy wil hê.”

“Ek moet seker nie kla nie want dis ’n ongelooflike storie wat hy skryf,”

gesels sy op pad kombuis toe. “Dis nog net ’n raamwerk, maar dit op sigself
is al fassinerend. Ek kan nie wag om te sien hoe die eerste volledige hoofstuk
sal lyk nie.” Sy glimlag dromerig. “’n Mens wonder hoe sy kop werk. Simon
is …”

Sy word daarvan bewus dat Theodore doodstil met die ketel in sy hand staan
en haar dophou.

“Wat?” vra sy onseker.

“Jy bewonder hom,” sê hy terloops.

“Hy het baie bewonderaars. En ek is trots daarop dat ek deel van die hele
skryfproses is,” sê sy stadig.

Theodore skink die water oor die koffie sonder om te antwoord.

“Hy is net my baas,” sê sy om die stilte te vul. “En ek ken hom al lank en hy
is ’n vriend van Ruben. Ek bedoel, ek maak geen aanspraak … ek bedoel, dis
net dat ek hom kén, Theodore, en dit maak die … die boek interessanter.”

Sy babbel, besef sy. Sy stap na die yskas toe en haal die sap uit. Deksels. As
sy nie eens vir Theodore haar gevoelens kan wegsteek nie, sal sy moet kyk
wat sy doen wanneer sy in Simon se geselskap is. “Gaan jy nie jou koffie
skink nie?” vra sy skerp.
“Ek is bly jy is so entoesiasties oor die boek,” sê Theodore en gee ’n glas aan.
“Jy gloei behoorlik wanneer jy daarvan praat.”

Haar wange word warm. “Dis ’n goeie boek,” sê sy kortaf. “Dit behoort goed
te verkoop.”

“Simon se boeke verkoop altyd goed.”

Sy slaan die sap met groot slukke weg. “Ek moet koers kry,” sê sy. “Simon
word deesdae so negeuur se kant wakker en dan maak ek ontbyt.”

“Elizabeth!” roep hy agter haar aan toe sy wegstap.

“Ja?”

“Stadige hitte. Dis hoe jy spek en eiers maak as jy ’n goeie ontbyt wil hê.”

“Sal so maak.”

“Min hitte en baie geduld. Probeer die stadig-oor-die-klippe-benadering.

Besin eer jy begin.”

Haar glimlag taan.

“En moenie Simon se aandag aflei terwyl hy skryf nie.” Theodore steek sy
neus in sy koffiebeker.

Sy het geweet dit gaan nie oor kosmaak nie. Maar sy kan ook
dubbelsinnighede kwytraak as sy wil. “En as ek jou versigtige instruksies en
bedekte waarskuwings ter harte neem, wat kry ek dan? Vingers wat nie
verbrand is nie?”

Theodore haal sy skouers onskuldig op. “Of ontbyt vir twee. Dis nie
onmoontlik nie.”

Sy kan nie aan ’n antwoord dink nie. Of eintlik kan sy, maar hy is die een wat
die rys moet kook. “Ha!” sê sy sonder oortuiging en blaas die aftog.
Gina is langs haar huis, waar sy tasse in haar motor laai. Elizabeth waai
skuldig vir haar en draf vinnig verby. Sy dink daaraan dat sy al soveel mense
op die dorpie ken, maar nog nie haar buurvrou nie. Dalk omdat sy ’n paar
maal ’n handjie vol pietersielie uit Gina se tuin vasgelê het. Dis die gelol met

’n gewete, dink sy. Sekere goeters moet jy vinnig verduidelik, anders begin jy
daarteen opsien en dan kom jy nooit sover nie. En kort voor lank is jy te
skaam om jou gesig in die openbaar te wys.

Sy sien die tiener met die indrukwekkende kuif eers toe sy halfpad met die
trappe op is. Hy staan voor die voordeur met ’n potplant in die hand.

“Hallo,” groet sy. “Kan ek help?”

Hy hou die plant na haar uit. “Hallo. My oupa Luca stuur dit vir jou.

Basiliekruid vir Amanda,” sê hy met ’n arrogante gryns.

“Basiliekruid?” sê Elizabeth verras. “Dankie! Maar hier is nie ’n Amanda nie,


ek is Elizabeth.” En toe word haar wange warm. Hemel, is hulle bang sy steel
hulle basiliekruid ook?

“En ek is Mario,” smeul die seun haar toe. “Jy hoef nie te stres nie. My oupa
noem alle meisies Amanda, veral as hulle in dié huis kuier. Hy sê hy’s
jammer hy stuur dit nou eers, maar hy sê altyd sulke goed.” Hy tik teen die
kant van sy kop. “Bietjie oud.”

“Ek wou al kom hoor hoe dit met hom gaan ná nou die nag se natreën, maar
alles was bottoe by julle huis,” sê Elizabeth verleë.

“Nee, hy’s orraait. Ons was by my suster in Bredasdorp. My ma het ons

kom haal toe sy hoor hy het al weer in die donker rondgeloop.”

“Al weer?”

“Hy raak deurmekaar en dan praat hy Italiaans en loop rond. Ons vat hom
vandag ouetehuis toe want my ma sê hy’t toesig nodig.” Mario word rooierig,
en Elizabeth sien hy is jonger as wat hy lyk. “Oupa sê die basiliekruid is vir
die spaghetti.” Sy stem raak grof. “Dis demensie. Hy kan dit nie help nie.”

“Dankie, Mario,” sê Elizabeth saggies. “Sê vir jou oupa ek waardeer dit.”

“Ja. Wel.” Mario huiwer nog ’n oomblik, maar die deur vlieg oop en Simon
se onvriendelike gesig verskyn.

“Ja?” vra Simon bars.

“Ek het net die basiliekruid gebring anders kry my oupa nie end nie,”

verduidelik die knaap. “Of nog erger, anders dwing hy om dit self te bring, en
my ma is haastig. Lekker dag … Elizabeth. Totsiens, Oom.”

“Klein twak,” mompel Simon.

“Jislaaik, jy’s in ’n slegte bui.” Elizabeth druk verby hom. Sy breek ’n


blaartjie af, wat sy ingedagte frommel om die geur vry te stel. Arme Luca.

Toe sy omdraai, staan Simon in die deur. “Waar was jy so lank?” vra hy
saggies.

“By Theodore.” Sy ruik aan haar vingers. “Jammer ek kom nou eers hier
aangesit, maar …”

“Wanneer is jy soontoe?” Daar is ’n snaakse, harde glans in sy oë.

“Ek kan nie onthou hoe laat ek hier weg is nie, Simon, ek het nie my horlosie
aangehad nie.” Hy antwoord haar nie. “Kyk, ek is jammer die ontbyt is laat,
maar hierdie tyd van die oggend lê en slaap jy ge …”

“Terwyl jy by Theodore is,” val hy haar in die rede.

Sy frons. “By …” En dan besef sy wat hy bedoel.

“Dis jou lewe,” sê hy, “maar ek sou ligloop vir Theodore as ek jy was. Sy
oog dwaal, maar soos menige meisietjie al tot haar skade ontdek het, gaan hy
altyd terug na Celeste toe.” Hy knik veelseggend en stap weg.
“Simon. Ek het nie …”

Hy hou aan stap. Verbaas besef sy dat hy nie in haar verduideliking


belangstel nie. Hy het gesê wat hy wou sê, en sy kan dit aanvaar of los. Nes
sy wil.
“Simon!” Hy is reeds in die sitkamer. Sy is nie gewoond dat mense die rug
vir haar draai wanneer sy met hulle praat nie, en sy is siek en sat daarvoor om
haar mond te hou omdat sy bang is sy word afgedank.

Sy storm agter hom aan en gaan vlak voor hom staan. “Is dit nou nie

snaaks nie,” sis sy uitasem. “Jy waarsku my teen Theodore, maar hy is nie die
een wat skoon van Linette vergeet en my op die rotse gryp nie!”

“Linette!” sê hy woedend. “Wat op aarde het …”

“Ek het nog nie klaar gepraat nie!” sê sy nog harder as hy en steek met haar
vinger na sy bors. “Ek is niemand se goedkoop vermaak of … of los gelukkie
nie, verstaan jy?” Sy is te kwaad om woorde te kry vir alles wat sy wil sê en
stamp met haar hand teen sy bors asof sy verwag dat hy agteroor sal steier
onder die gewig van haar minagting. Sy kon netsowel ’n huis probeer
omstamp het. Op die een of ander manier het sy heeltemal te na aan hom
gekom. Sy stamp weer wild met haar plathand, hierdie keer om hom van haar
af weg te kry.

Sy oë deurpriem haar. Hy lig sy hand asof hy haar aanraking wil afweer,


maar hy beweeg nie weg nie. Hy beweeg glad nie. En dit waarsku haar, soos
niks anders dit kon doen nie, dat sy met vuur speel.

Sy deins terug.

Sy tas wild na woorde, maar die woede wat haar tot hier gedra het, laat haar
totaal in die steek. “Ek loop nou. En as jy honger is, kan jy brood eet!”

Hierdie bewerige dreigement klink glad nie so indrukwekkend soos wat sy


beplan het nie. Sy vlieg om, loop met lang treë buitetoe, laat dawer die deur
agter haar toe, hardloop by die trap af en gaan sit en bewe op haar bed.

Sy laat sak haar kop in haar hande. Sy het ’n nare vermoede iets het radikaal
skeefgeloop. Oor hoe om haar probleme te hanteer, het sy nog nooit getwyfel
nie. As iets nie na jou sin verloop nie, verloor jy jou humeur, gil na hartelus
op wie jou ook al vertoorn, en storm weg. Hierdie keer baat dit niks.
Sy kan nie verder as haar kamer kom nie en sal binnekort moet teruggaan om
kos te maak vir die man op wie sy geskree het.

Met ’n mismoedige kreun kantel sy om op haar sy. Daar is nie wegkomkans


nie. Nie van hom nie, en ook nie van haarself nie. Sy knyp haar oë toe en wag
dat haar hartklop bedaar – die hartklop wat haar stem in haar keel laat skud
het, nie net van woede of verskriktheid oor haar oormoed nie, maar in reaksie
op ’n ander soort gevaar. ’n Ander moontlikheid. Een wat te make het met
Simon se liggaamshouding, met die manier waarop hy na haar gekyk het …
en met ’n asemlose afwagting in haarself.

Sy sluk droog en staar onsiende na die muur. Dit voel asof sy selfs binne-in
haar liggaam bewe.

’n Rukkie later hoor sy hom by die oop glasdeur inkom. Sy vlieg regop en
kyk om.

Hy hou ’n bord vas. “Ek kan nie brood smeer nie, maar met die linkerhand
wat kan vat, kan ek darem spek en eiers baasraak.”

Sy kyk verwese na die droë krulletjie spek en die klipharde, olierige eier en
bars in trane uit.

Hy sit die bord versigtig op haar skryftafeltjie neer.

“Hoekom is jy so gemeen?” snik sy radeloos. “Hoekom dink jy sulke slegte


goed van my? Ek probeer hard om alles reg te doen,” tuimel die woorde uit
haar mond. “En ek kuier nie aanmekaar by Theodore nie. Ek het nie eens
geweet waar hy bly nie, tot ek vanoggend ’n ander pad gedraf het.”

Daar is te veel trane om verder te praat en te veel dinge wat sy nie kan sê nie.

Hy kom sit langs haar op die bed se rand, sit later sy arm lossies om haar
skouer en laat haar uithuil. Met ’n laaste hik en ’n snuif laat sak sy haar kop
uitgeput teen sy skouer.

Sy snuif weer. Dit raak nou ’n effense probleem. Skelmpies vee sy oor haar
neus. Sy sien hulle dowwe weerkaatsing in die skuifdeur se glas, en wonder
meteens of hy kan sien sy het dringend ’n snesie nodig.

Sy staan op en snuit haar neus. “Jy kon gesê het jy is jammer,” doen sy aan
die hand.

“Ek is,” sê hy vinnig.

“Ek ook,” sê sy dankbaar en verlig. “Regtig jammer.”

Hy aarsel. “Wanneer jy geëet het …”

“… is daar ietsie wat ek moet tik,” lag sy bewerig.

“Nie vandag nie,” sê hy. “Ek wou sê dat jy vandag vry het. Jy het hard
gewerk en het ’n ruskans nodig.” Hy glimlag skeef toe hy verby haar stap.

“Sodat jy uitgerus is vir môre.”

“Nie vir môre nie, vir vanaand,” sê sy. “Theodore en Celeste kom vanaand
hier eet.”

Hy steek vas. Dan sug hy saggies. “Toemaar, wat,” sê hy vaag. “Ek sal
Theodore afpers om die skottelgoed te was.”

Asof sy ’n dogtertjie is wat gepaai moes word, en hy nou met verligting kan
teruggaan om dinge te doen wat werklik belangrik is, dink Elizabeth hartseer.

Maar hy loop nie.

“Ek wil net vir jou sê,” sê hy saggies en koponderstebo, “jy het geen rede om
my te wantrou nie. Ek sal nie aan jou raak nie. Wat op die rotse gebeur het
…” Hy huiwer, maar kyk dan reguit na haar. “Dit was ’n oomblik van
malligheid wat ek berou. Dit sal nooit weer gebeur nie, dit belowe ek jou. En

… jy het van Linette gepraat, en ek wou vra …”

“Dis niks, Simon,” keer sy en laat sak haar kop. “Regtig. Kom ons praat nie
verder daaroor nie.” Hy wil natuurlik vra sy moenie vir Linette vertel wat
gebeur het nie, en dit wil sy nie hoor nie.
Toe sy weer opkyk, is hy weg. Sy kyk lank na die leë deur. Toe tel sy die
bord kos op.

Ontbyt vir een. En te koud om te eet.

Sy wurg dit nogtans af, want sy kan haar nie indink dat sy iets sal weggooi
wat Simon vir haar gegee het nie. Toe gaan sit sy weer op die bed en kyk met

’n ongelukkige sug na die ou kookboek wat op die bedkassie lê. Te veel


emosie. Te veel laat nagte. Sy skop haar skoene uit en kruip onder die duvet
in. Dit voel na ’n goeie idee om sommer net te slaap. Sy sal stort wanneer sy
wakker word. Teen daardie tyd behoort sy gewoond te wees aan die gedagte
dat hy nooit weer aan haar wil raak nie.

Simon staan onder die trap maar is nie lus om die huis in te gaan nie.

Ongeduldig met homself, besluit hy daar is niks meer wat hy kan doen nie.

Hy het gesê hy is jammer, hy het belowe om sy hande tuis te hou, en hy het


boonop ’n soenoffer met sy eie hande vir haar gemaak en gebring. Hy sou die
Linette-storie ook opgeklaar het, maar toe hy die saak aanroer, lyk dit asof sy
van voor af wil huil. Sy moet ’n skinderstorie gehoor het oor iets wat hy
Linette kamma aangedoen het. Wat anders kan dit wees?

Nogtans bly staan hy besluiteloos en wonder of hy nie tog maar moet


teruggaan na haar toe nie, totdat sy selfoon se deuntjie ’n einde maak aan sy
gepieker.

“Hoe gaan dit?” vra Naomi.

“Dit gaan goed,” antwoord hy kortaf. As hy ietwat omgekrap was omdat hy


vermoed het Elizabeth was vroegoggend – of heelnag – by Theodore, is dit sy
saak.

“Dit klink nie of dit vreeslik goed gaan nie. Eet jy darem orraait?”

Hy dink aan Elizabeth se klipharde tjops, en aan die heel aartappels en


gebreekte eiers wat hy so gereeld in die vuilgoeddrommetjie sien. Dis ook
hulle saak. Dit het niks met Naomi te doen nie. “Ek eet.”
Naomi begin babbel oor haar skoonma en haar man en Battie terwyl hy
omdraai en in die rigting van die lang, lae koppie stap wat almal hier ’n berg
noem. Nou en dan sê hy “h’m”, totdat hy die naam Elizabeth hoor.

“Hoe’t jy gesê?” vra hy.

“Ek sê julle kan my so teen die middag verwag. Luister jy nie?”

“Die ontvangs is swak,” lieg hy. “Hoekom wil jy skielik heelpad van die
Kaap af hiernatoe kom?”

“Ek is nie in die Kaap nie. Ek kuier by my skoonma in Hermanus.”

“Maar dis meer as ’n uur se ry van daar af en jy is swanger. Buitendien, ek


sal nie toelaat dat jy Elizabeth se roetine kom deurmekaar krap nie. Gee die
foon vir jou man.”

“Chris is nie hier nie,” sê Naomi selftevrede. “Hy is by die huis en ek is al


klaar op pad.”

Om hemelswil. “Hoe lank is jy van plan om dié keer te bly?” vra hy.

“Aarde, Simon, dit klink asof jy my nie daar wil hê nie,” sê Naomi vrolik.

“Dit is darem ons strandhuis, nè.”

“En soos ek jou ken, is jy verveeld met jou skoonma,” sê hy gelate.

“En ek verlang na my dierbare broer,” kweel Naomi aansitterig.

“Skynheilig,” glimlag hy. Met ’n sug steek hy die foon in sy sak en stap terug
om Elizabeth te waarsku dat Naomi vir hulle kom kuier. Sy is nie bo in die
huis nie, en hy stap af na haar kamer toe.

By die oop glasdeur steek hy vas. Sy lê in ’n klein bondeltjie onder die duvet
opgekrul. Hy kan haar sagte asemhaling hoor.

Dis tyd dat hy die waarheid aan homself erken. Hy was nie net ’n bietjie
ontsteld toe hy haar daarvan verdink het dat sy by Theodore was nie. Hy was
blind van woede.

Woede of jaloesie? vra ’n sluwe stemmetjie in sy binneste.

Hy draai doodstil om.

Ook maar goed hy is ’n skrywer, dink hy toe hy met die trap opstap. As hy
aan ’n storie werk, vergeet hy alles, selfs van Elizabeth. En hy het die
woordeskat om te loop en vloek net so lank as wat hy wil.

ELF

Hy is so verdiep in sy werk dat hy skrik toe hy Elizabeth se gilletjie hoor,


gevolg deur die rinkelende lawaai van iets wat val. Mense roep uit en lag. Hy
wil-wil hom vererg oor die onderbreking, maar dan sien hy dis baie later as
wat hy gedink het. En hy het skoon vergeet om Elizabeth van Naomi se koms
te vertel. Wel. Dis nou te laat. Hy skakel die bandmasjien af en skraap die
vorige dag se getikte velle papier bymekaar.

Elizabeth en Celeste kniel op die vloer en tel geskilde aartappels op toe hy die
kombuis binnestap. Elizabeth spring regop. Haar oë skitter en haar wange is
blosend van die stoof se hitte.

“Jammer,” grinnik sy. “Theodore het in my vasgeloop en toe laat val ek die
vergiettes met die aartappels. Het die lawaai jou gesteur?”

’n Spanning waarvan Simon nie bewus was terwyl hy gewerk het nie, raak uit
sy skouers weg. “Nee wat,” glimlag hy en gaan leun teen die kassie langs die
stoof. “Hallo, Naomi. Jy’t darem veilig hier aangekom, sien ek. Waar’s
Juliette?”

“Sy kuier by haar ouma,” sê Naomi en stop ’n skyf tamatie in haar mond.

“Gee vir my,” mompel sy vir Elizabeth. “Ek sal dit afspoel.” Sy hou die
vergiettes met aartappels onder die kraan. “Elizabeth is die wonderlikste kos
aan die maak.”

“Kerrie,” sê Celeste en glimlag onseker, “soos Theodore daarvan hou. Met


jeera en komyn en alles.” Sy lyk effens verwese.

“Maar jeera is mos maar net ’n ander naam vir k …” Simon swyg onthuts,
want agter Celeste se rug skud Elizabeth haar kop kwaai vir hom. “Wat?” vra
hy. Hy wou maar net sê jeera en komyn is dieselfde ding. Wat is so erg
daaraan!

“Maar toe ons hom nooi, het hy dan ampertjies nie gekom nie want hy het
volgehou hy wag vir jou,” sê Elizabeth vir Celeste. Sy woel met die houtlepel
in die pot en kyk onskuldig oor haar skouer vir Theodore.

Theodore stryk verleë oor sy neus. Hy herwin egter sy teenwoordigheid van


gees en slaan sy arm om Celeste. “’n Vrou soos jy,” sê hy galant in haar oor,
“hoef nie allerhande eksotiese kerries te kook nie. Jy hoef net styf teen my te
sit en lekker te eet.” Celeste ontspan sigbaar en leun liefdevol teen hom

aan.

“Slim,” sê Simon saggies vir Elizabeth toe hy seker is Celeste en Theodore


kan hom nie hoor nie.

Elizabeth grinnik onhebbelik. “Nou sal hulle ten minste nie aan tafel baklei
nie. Ek het opgelet jy verpes dit,” fluister sy.

“Weet jy, Simon,” sê Naomi terwyl sy nog ’n stukkie tamatie uit die slaai
gaps, “dié Elizabeth het darem ’n manier om ’n plek gesellig te laat lyk. Net

’n paar blomme en riete en klippies en alles lyk sommer anders. Jy skuld haar

’n bonus.”

Elizabeth straal.

“Sy verdien dit,” glimlag Simon.


Terwyl Celeste oor inheemse plante begin praat, hou Simon ongemerk vir
Elizabeth dop. Sy lyk soos ’n kind op Kersdag as sy hoor sy het iets reg
gedoen. Dis amper ’n versoeking om komplimente uit te dink net om te sien
hoe daardie gesiggie ophelder.

Hy raak daarvan bewus dat Naomi hom dophou. Hy frons gevaarlik in haar
rigting, maar dit doen niks aan die betekenisvolle gryns op haar gesig nie.

Toe Theodore sy eerste hap kerrie eet, kreun hy oordrewe. Celeste soek ’n
sakdoek want haar neus het onmiddellik begin loop. Elizabeth kyk
bekommerd na Simon. “Is dit baie erg? Mevrou Moosa het gesê dis matig. Sy
het gesê ek moet meer rissies bysit as ek dit sterk wil hê.”

Vlamme slaan in Simon se mond uit. “Baie geurig,” sê hy hees.

Theodore lê soos hy lag. “En beslis nie vir sissies nie.”

Elizabeth raak hulpeloos aan die giggel. “Dit sal my leer. Ek het gewonder
hoekom mevrou Moosa so lag toe sy my die resep gee.”

“Wie’s mevrou Moosa?” vra Simon met ’n kuggie en gaan tap ’n glas water.

“’n Wonderlike vrou wat ek in die biblioteek raakgeloop het,” verduidelik


Elizabeth.

Naomi beduie met haar vurk na haar boepie. “Wat Altus Johannes vannag
hiervan sal dink, sal ons nog moet sien, maar vir my is dit bitterlik lekker.

Gee net die rys aan dat ek dit verdun. Tussen hakies, ek het vir jou ’n present
gekoop, Elizabeth. Een van Jamie Oliver se boeke, maar dit het op Hermanus
agtergebly. O, en jy sal nooit raai wie loop ek toe in die boekwinkel raak nie,
Simon. Vir Linette. Het jy geweet sy is verloof?”

“Aan Hein, ja,” sê Simon. “Sy’t my gesê.”

Elizabeth se mes kletter op haar bord neer. Sy tel dit op, maar vanaand is

sy buitengewoon lomp, want dit glip uit haar hand en val op die vloer.
“Klink nie of jy omgee nie,” sê Naomi en kyk Simon snaaks aan.

Hy skep nog rys in sy bord, geïrriteerd deur sy suster se ondersoekende blik.


“Ons is ou vriende. Ek is bly vir haar part,” sê hy.

Nou sit Celeste hom ook en aanstaar. “Julle het nogal lank uitgegaan, jy en
Linette,” sê sy.

“Lank genoeg,” sê hy onverskillig.

Elizabeth, wat haar mes afspoel, kyk om. Hy besef dis die eerste keer dat hy
nie kan peil wat sy dink nie. Nie heeltemal nie. Dis egter duidelik dat sy nie
beïndruk is nie. “Lank genoeg om agter te kom ons dink nie eenders oor
verhoudings nie,” verduidelik hy vir haar.

Sy kyk weg en droog die mes af.

“Jy bedoel jy is trousku en sy is nie,” sê Naomi afkeurend. “Partykeer wonder


ek darem oor jou, Simon. Die dag toe harte uitgedeel is, het jy seker gaan
rugby kyk.”

Simon skep nog kos. Hy draai na Theodore, wat die enigste mens is wat hom
nie aangaap asof hy ’n hartelose frats is nie, en vra hom om die slaai aan te
gee.

Simon maak die voordeur agter Theodore-hulle toe en gaan sit weer voor die
vuur. Hy kyk ingedagte na die stukkie dryfhout en ronde klippies op die teëls
langs die kaggel. Daar is so ’n rangskikkinkie op die vensterbank ook.

Elizabeth se werk.

Dis eienaardig dat sy kamer toe is sonder om te wag vir die likeur wat hulle
voor die vuur sou drink. Sy het nie nag gesê nie. En sy het ook nie na hom
gekyk nie. Dis verbasend onaangenaam om so geïgnoreer te word.

Net toe hy opstaan om te gaan slaap, kom maak Naomi haar op die rusbank
tuis met ’n kombers wat sy oor haar bene gooi.

“Gaan jy wakker bly tot die hout uitbrand? Ek is nogal vaak,” sê hy.
“Moenie so ongesellig wees nie,” sê Naomi en wikkel totdat sy gemaklik lê.

Simon sug. Hy weet goed waaroor hierdie gesellige gesprek sal gaan. Sy wil
aan hom torring oor Linette.

“Onvolwasse, onervare en voortvarend, h’m?” sê Naomi peinsend.

Dit neem die wind uit sy seile. Hy oorweeg dit om te maak asof hy nie weet
waarvan sy praat nie, maar dit sal net die onvermydelike uitstel. “Jy

mors jou tyd as jy reken ek sal Elizabeth met jou bespreek.”

“O?” sê Naomi onskuldig. “Sy was heeltemal bereid om oor jou te praat.

Sy’t my allerhande goed vertel. Soos dat jy haar so sleg behandel het dat sy
haar vriend wou vra om haar te kom haal.”

“Ek het haar nie …” Hy trek sy vingers ongeduldig deur sy hare. “Dit was

’n misverstand. Sy het dit in haar kop gekry dat ek haar wou afdank.

Heeltemal oorreageer, natuurlik. En Lionel is nie so ’n besonderse ‘vriend’

van haar soos wat jy dit wil laat klink nie, hy is maar net die dom
makelaartjie wat die gemors met haar erfgeld aangevang het,” sê hy
wrewelrig.

“Hoekom sê jy makelaartjié?”

“Want hy is Elizabeth se ouderdom.”

Naomi skud haar kop. “Hy is jou ouderdom,” sê sy. “En hulle het ’n
verhouding gehad.”

Hy kyk onthuts na haar. “Belaglik,” sê hy ergerlik. “Dan is die man tien jaar
ouer as sy. ’n Meisietjie van skaars twintig en ’n man van dertig. Dis mos
gekheid.”

“Klink my sy dink bloot hy is dieselfde ouderdom as haar broer,” sê Naomi


en loer oor die kurwe van haar boepie na haar tone.

“Ag, kom nou, Naomi. So ’n groot ouderdomsverskil in ’n verhouding sou in


Ma en Pa se tyd aanvaarbaar wees, maar deesdae? Ek weet mos hoe dit gaan.
As die man veertig word, is sy pas dertig, en teen die tyd dat sy veertig is, is
hy ’n ou man van vyftig.”

“Wie’t van veertig en vyftig gepraat?” gryns Naomi. “Dis mos nie ’n gewone
verhouding waaraan jy dink nie, Simon, dis trou. En almal weet tog hoe jy
dáároor voel.” Sy bly stil asof sy wil hê dit moet ordentlik by hom insink.

Dit sink in. Alles waaraan hy nie wil dink nie, sink in.

“Ek verstaan nie hoekom jy dit nodig vind om my al hierdie goed te vertel
nie,” sê hy gegrief. “Lionel het ’n ander meisie en Elizabeth se liefdeslewe
interesseer my nie.”

“Sou jou in elk geval niks gebaat het as jy geïnteresseerd was nie,” sê Naomi.
“Sy het Lionel se liefdesverklarings weggelag oor hy so beïndruk met
homself is en haar glo aangesien het vir ’n dom ou meisietjie wat hy na sy
hand kan leer.” Sy stryk die kombers glad. “Klink bekend, of wat praat ek
alles?”

’n Soort moegheid sak op hom neer. Naomi het wel die Linette-storie laat

vaar, maar nou het sy dit oor Elizabeth. Hy weet presies hoe sy suster se
romantiese verstandjie werk: Lionel is ouer as Elizabeth, dus hou Elizabeth
van ouer mans; hy self is ouer as Elizabeth, en daarom is hulle vir mekaar
bedoel. En met Naomi se agterstevoor idee van sielkunde sal sy aan hom
peuter en por tot hy naderhand van pure uitputting erken hy is aangetrokke tot
Elizabeth.

Hy formuleer die sinne waarmee hy haar wollerige redenasie aan flarde sal
skeur. “Lionel moes hom ingehou het. Hoe kon hy met Elizabeth lol terwyl
sy nog nie eens uitgewerk het wat sy van die lewe wil hê nie?”

Naomi sit regop en vou die kombers om haar. Mooi versigtig. “Maar Simon,
as g’n man met Elizabeth mag lol nie, hoekom soen jy haar dan op die
rotse?”

Nou gaan sy darem te ver. “Is dit hoekom jy hier is? Oor skinderstories?”

“O nee,” sê Naomi met smaak, “ek het die skinderstories eers hier kom hoor.
En jy hoef nie só na my te kyk nie, dis Theodore wat julle gesien het.

En, nee, voor jy vra, hy het Celeste daarvan vertel, nie vir my nie. Seker
sodat Celeste nie haar jaloesie op Elizabeth moet uithaal nie. Ons ken haar
mos. En Celeste het my vertel. Ná subtiele aanmoediging.”

Hy wens hy kon haar uitjaag. “Naomi, jy is so subtiel soos ’n voorhamer,”

sug hy. “Sê wat jy wil sê.”

Naomi lag saggies. “As ek die prekerige tipe was, sou ek sê jy moet haar
volgende keer liewer nie in die openbaar beetkry nie, maar ek skat dis
onnodig. Elizabeth se kop is reg aangeskroef. Volgens Theodore is jy taamlik
haastig van haar af weg daar onder op die rotse. Lyk my iemand het iemand
se tjank vir hom afgetrap.” Sy staan op en rek haar behaaglik uit. “Dit moet
nogal ’n skok gewees het toe jy agterkom jy’s nie so onweerstaanbaar soos
wat jy dink nie, of hoe?” Sy stap kamer toe met die kombers se punt wat
agter haar aansleep. “Aag, ja,” murmel sy, “hoe het die laaste van die helde
geval.”

Simon maak sy oë toe. Naomi is ’n pyn en sy het die afskuwelike gewoonte


om alles uit almal uit te trek – selfs dinge wat hulle self nie mooi weet nie –
maar sy maak ’n fout. Hy was nog nooit ’n held nie. Hy is nie eens dapper
genoeg om te ontleed waarom Elizabeth so ’n houvas op hom het nie.

Hy vermoed vaagweg dit het te make met die klanke wat haar
teenwoordigheid aankondig: die oopgaan van die voordeur, die uittrek van
die laaie in die kombuis, die tevrede, toonlose gefluit deur haar tande as sake
vlot. En natuurlik die wanhopige kreune as dinge skeefloop, wat gewoonlik

gevolg word deur die harde toeklap van die vuilgoeddrommetjie se deksel.

Elke oggend wanneer hy wakker word, lê hy daarvoor en wag. Hy het geen


benul hoekom nie. Hy weet net dis ’n soort teken dat hy kan opstaan en in
vrede met sy dag begin.

Dit dring tot hom deur dat dit ’n probleem is.

Hy wil weer van die gedagte wegskram soos wat hy die afgelope tyd maak,
maar dié keer volg hy die spoortjie tot by die logiese uiteinde – tot by sy
slaapkamer. Tot by Elizabeth in sy bed. Hy kan etlike variasies op die tema
van Elizabeth in sy bed bedink. Dis nie wat hom pla nie; hy dink aan ander
meisies ook so. Maar wat ontstellend is, is dat hy die volgende oggend langs
haar wil wakker word. En die oggend daarna ook.

En dis belaglik. Hy moet hom regruk.

Oudergewoonte wil hy uitwerk hoe lank Elizabeth nog by hom gaan wees en
kom tot sy ontsteltenis agter hy tel nie meer die dae nie.

TWAALF

Elizabeth stoot die bakplaat met die twee geprikte aartappels so saggies
moontlik tot in die middel van die oondrak. Metaal skuur grillerig teen
metaal. Sy trek ’n gesig en luister gespanne, maar dit klink nie asof Simon of
Naomi wakker geword het nie. Sy stel haar polshorlosie op kwart oor elf.

Amanda se boek sê die aartappels sal gaar wees wanneer dit volgens haar
horlosie twaalfuur is. Inderwaarheid is dit halfeen in die nag, en dis hoekom
sy dit nie waag om die stoofhorlosie te stel nie. Dit lui te hard.

Sy hurk voor die stoof en sluit haar oë teen die hitte. Onmiddellik word sy
oorval deur die gedagtes waarvan sy so sukkel om te ontsnap. Simon is nie
verloof nie. Al haar pogings om ’n afstand tussen hulle te bewaar was nie net
onnodig nie, dit was dom. Of só het sy gedink. Maar voordat sy die nuus
behoorlik kon verwerk, hoor sy hoe harteloos en trousku hy is. Sy het altyd
gewonder hoe haar vriendinne so dom kan wees om verlief te bly op mans
wat te min omgee. En nou? Kyk nou.
Toe sy opstaan en omdraai, is dit asof haar gedagtes vorm aanneem en solied
word, want Simon sit by die tafel.

Sy gryp na haar hart. “Hemel, Simon,” prewel sy. “Kan jy nie …”

“… klop nie? Aan ’n kombuisdeur?” Hy trek sy wenkbrou irriterend op.

“Jy kon ’n booswig gewees het.”

Sy weet nie waar om te kyk nie. Hy’t pajamas aan. Of altans, ’n


pajamabroek, want hy is al weer kaal bolyf onder die dik, donkerblou
kamerjas wat nie behoorlik vasgemaak is nie.

“Aartappels,” sê hy. “In die middel van die nag.”

“Ek kon nie slaap nie.”

“Die mense wat ek ken, lees ’n boek wanneer hulle wakker lê,” glimlag hy.

“Ek het,” sê sy en beduie na die kookboek. “En toe kry ek vyf


aartappelresepte.”

“In hierdie boek,” sê-vra Simon en vryf oor sy deurmekaar hare.

Sy knik en stop haar hande in haar jeans se agtersakke, want die versoeking
om sy kuif uit sy gesig te vee is amper te groot om te weerstaan.

Simon trek die boek nader en verskuif die teelepel waarmee Elizabeth haar
plek hou. “Hierdie resep wat sê … ‘bak vyf en veertig minute tot ’n uur’?”

Toe sy onwillig knik, skuif hy hom gemaklik reg. “Dan lyk dit asof jy hierdie
keer minstens ’n driekwartier moet wag voor jy jou weer uit die voete maak
net omdat ek by die deur ingestap het.”

Hy gaan sowaar hier bly sit, dink Elizabeth magteloos. Dis sy skuld dat sy
hier staan en aartappels bak, en nou wil hy nie loop nie. Sy gluur hom
wrokkig aan. “Ek weet nie waarvan jy praat nie,” sê sy.

“Natuurlik weet jy. Wanneer jy by Naomi is, kwetter jy soos ’n vink, maar
van gisteraand af wil jy my skielik nie ken nie.”

“Ek het nie besef jy dink ek is onbeskof nie,” sê sy uiteindelik styf.

“O nee. Nee, onbeskof is jy nie,” sê hy. “Jy het net stilstuipe.”

Stilstuipe! “Ek het nie st…” Sy sluk haar woorde weg, want as sy hom so
kyk, sal dit hom alte goed pas as sy te kwaad word om haar woorde te tel,
want dan baklei hulle, en dan trek sy alewig aan die kortste ent. “Jammer,” sê
sy formeel.

Dit lyk asof hy sukkel om nie te glimlag nie. “Wat is dit, Elizabeth?” vra hy
saggies. “Jy kan mos vir my sê as daar iets is waaroor jy ongelukkig is.

Ons is tog vriende.”

“Ou vriende, ja,” mompel sy suur. Net soos hy en Linette skielik net ou
vriende is. Hulle het hoe lank ’n verhouding gehad, en al wat hy daarvan kon
sê, is dat dit “lank genoeg” was. Yskoud en traak-my-nieagtig. En dit nadat
hy ewe liefdevol en sjarmant van Linette afskeid geneem het, met ’n lang
soen wat sy moes aanskou. Net soos hy háár gesoen en toe koeltjies gesê het
dis nie die einde van die wêreld nie, dis net ’n soen. Wel, op sjarme kan jy
nie peil trek nie en sy weier om een van sy lang lys “ou vriende” te word.

Hy hou haar met nougetrekte oë dop. “En wat is verkeerd met ou vriende?”

vra hy toe sy stilbly.

Sy trek haar vingers radeloos deur haar hare. “Niks,” sê sy ongelukkig.

“Dis net …”

“Gaan voort,” nooi Simon.

Sy kyk weg van die gladde vel van sy bors waar die kamerjas oophang en
peuter met haar horlosiebandjie. “Dis beter as ons verhouding …” Sy struikel
sleg oor die woord en gaan haastig voort. “As ons net ’n gewone
werksverhouding het. Ek bedoel maar net, jy is my baas, en ek weet nie hoe
professioneel dit is om … om vriende ook te wees nie.”
Hy skuif die teelepel heeltemal van die boek af, blaai om en beskou die resep
op die volgende bladsy. “As dit is wat jy wil hê, is dit reg so.”

Dit is nie wat sy wil hê nie. Sy wil ook nie hê haar hart moet met haar

weghardloop elke keer as hy naby haar kom nie, maar daaraan, lyk dit, is daar
min wat sy kan doen.

“Ek hoop nie jy dink dis te vriendelik dat ek hier by jou in die kombuis sit
nie.”

“Hoegenaamd nie,” sê sy sarkasties en kyk vies na die venster, maar dit help
haar ook nie, want nou kyk sy in Simon se weerkaatsing vas waar hy agter
haar rug sit en grinnik. Sy pluk die gordyntjies toe.

“Het jy gesien daar is regmerkies by ’n klomp van die resepte?” vra hy


geselserig.

“En datums,” sê sy stug. “Dit lyk my Amanda het uit hierdie boek leer kook
en resepte afgemerk wat sy reggekry het.”

“Wie?”

“Amanda,” sê sy en wys hom die skutblad. “Gersom se onkundige bruid.”

Hy glimlag toe hy die boodskappie lees. “Klink of daar ’n storie agter die
boek is.”

“Nie een wat jy sal verstaan nie.” Sy knyp haar lippe opmekaar. Dit het
sommer net uitgeglip.

“Nie?”

“Nee. Want as daar ’n storie is, is dit ’n soort liefdesverhaal.”

“Ek sien,” sê hy en knik. “En na jou mening is dit iets waarvan ek nie kennis
dra nie.”

Hy mors met haar en sy is moeg daarvan. “Dit lyk nie so nie,” antwoord sy
kwaad.

“Moontlik is jy reg. Ek skryf spanningsverhale. Het nog nie liefdesverhale


oorweeg nie.” Hy leun met sy elmboog op die tafelblad. “Snaakse ding van
skryf – mense het die vreemdste idees daaroor. Meisies soos Linette,
byvoorbeeld.”

Sy kyk skrikkerig na hom. Hy kan tog nie weet wat in haar kop aangaan nie,
of kan hy?

“Eers is dit alte wonderlik om met ’n skrywer uit te gaan wie se gesig af en
toe in ’n koerant of op televisie verskyn,” gaan hy voort. “Maar op ’n dag sê
die man hy kan ongelukkig nie vir ’n naweek saam met haar iewers heen
wegglip nie, want hy is in die middel van iets belangriks – soos hoofstuk 4.

Meteens is niks meer wonderlik nie, en kort voor lank kry die afgeskeepte en

– laat ons maar eerlik wees – sielsverveelde slagoffer van die ongevoelige
skrywer iemand anders wat haar raaksien en vertroos.”

“Maar skryf is jou werk,” sê Elizabeth, teen wil en dank verontwaardig.

“Sy moet mos weet jy kan nie allerhande ander goed doen wanneer jy aan ’n
boek werk nie.”

Simon haal sy skouers op en blaai terug na die aartappelresep.

’n Ander gedagte skiet haar te binne. Sy moet net weet. “Het sy jou
seergemaak, Simon?” vra sy onseker.

Sy oë word behoedsaam. “Nee,” antwoord hy met ’n laggie. “Dit sou miskien


lank gelede die geval gewees het,” voeg hy effens te ongeërg by.

“Toe ek jonger was.”

Sy kyk ondersoekend na hom. Hierdie man met sy verleë laggie en sy blou


kamerjas is nie so hardgebak soos wat hy voorgee nie.

“O, nou verstaan ek,” sê sy stadig. “En van toe af is jy eerder bang Jan as
dooie Jan.”

Sy glimlag raak breër. “Ek stry nie. Ek is doodbang vir verhoudings wat uit
die staanspoor gedoem is. Dis lekkerder om by jou in die kombuis te sit as jy
op eienaardige tye kos maak.”

Sy gaan sit by die tafel en glimlag vir hom. Bang Jan of te nie, sy kan haar
voorstel dat hy maar lekker misbruik maak van meisies wat oor hulle voete
val as hulle ’n bekende skrywer gewaar. Ja-nee, jy sal hare op jou tande moet
hê as jy met hom deurmekaar raak … “Toemaar,” sê sy dromerig, “dis ook
nie so vreeslik nie, wat.”

Hy maak keel skoon. “Wat dit ook al mag beteken. Eintlik probeer ek jou
subtiel aan jou aartappels in die oond herinner.”

“Aartappels!” skrik Elizabeth en vlieg op. Sy skarrel rond om


oondhandskoene te kry en haal die bakplaat uit, kry ’n doek en rol die
aartappels een vir een heen en weer daarin.

“En nou moet jy ’n kruis sny,” sê Simon met sy vinger op die resep. “’n Diep
kruis,” waarsku hy toe sy met die mes bokant die aartappels huiwer.

Sy sny en druk liggies aan die kante. Soos ’n wonderwerk brokkel die sagte,
stomende, gaar wit vlees uit die sny.

Sy kyk beïndruk daarna. “Lyk belowend, nè,” glimlag sy vir Simon.

“Baie belowend,” sê hy sedig en gaan haal die botter.

Sy grinnik, balanseer ’n klont botter versigtig in die middel van die kruis en
kyk met genoegdoening hoe dit smelt. “Ek waarsku jou,” sê sy terwyl sy
kleinbordjies en vurke uithaal, “as dit so goed smaak soos dit lyk, gaan jy ’n
probleem hê. My kop sal so groot wees …”

Hy hap en skep ’n groter stuk. “Vir my smaak dit soos aartappel.”

“Soos gáár aartappel,” lag sy. “O, Simon!”

“O, Simon, ek het ’n aartappel gebak?” terg hy.


“Ag,” sug sy gelukkig, “jy kan sê wat jy wil, maar vir my is dit lekkerder as
kaviaar. Mense sal nie meer kan sê ek is ’n hopelose loskop nie. Hulle sal
moet sê ek is ’n loskop wat lekker aartappels bak.”

“Wie het jou só genoem?”

“My pa. My vriendinne. Onder andere.” Sy haal haar skouers op. “Wonder
wat ek volgende gaan maak?” Sy tas na die boek.

Simon skuif dit onder haar vingers uit. “Jy kan nie al die resepte in die boek
binne een nag baasraak nie.” Hy staan op. “Nie met daardie donker kringe
onder die oë nie.” Hy vee saggies met sy duim onder haar oog. “En jy is nie
hopeloos nie. Jy is een van die moedigste mense wat ek ken.”

Sy glimlag en draai spontaan haar wang teen sy oop handpalm vas.

Hy trek sy asem saggies in.

Die badkamerdeur klik toe. Naomi het wakker geword.

“Slapenstyd,” sê Simon amper fluisterend en stap weg.

In die leë kombuis lig Elizabeth haar hand verwonderd na haar wang. Sy
glimlag verstom. Sy sou kon sweer dié keer is dit hy wat vlug omdat hy nie
kan wen nie. Om die waarheid te sê … Sy skuif haar hand oor haar mond,
asof sy sy aanraking tot by haar lippe wil bring. Om die waarheid te sê, hy
wou haar soen.

Sy glimlag droomverlore en tel die boek op voordat sy die lig afsit en uitstap.
Sy wil nog ’n bietjie in die bed daarin lees.

“Wat sal ek vir ontbyt maak?” vra Elizabeth en blaai na die ontbytafdeling in
Amanda se boek. “Jy kan kies want jy is swanger.”

“Net waarvoor jy lus is,” antwoord Naomi. “My oggendnaarheid is lankal


verby. Kosreuke pla my nie, behalwe as ek self moet kook.”

“Ek kan eiers maak,” sê Elizabeth vol selfvertroue en trek haar voorvinger
oor die resepte met datums daarby. Hier volg die datums redelik kort op
mekaar, let sy op.

Simon leun oor haar skouer. “Spek en eiers,” stel hy voor.

“Daar is nie spek nie. Wat van omelet?” vra sy.

“Ook lekker. Jy kan môre spek en eiers maak. Dis my gunsteling,” sê Simon.

“Ja, maar …” Elizabeth byt op haar onderlip. “Ja, maar ek kan nie. Die week
se huishougeld is op.”

“Was daar nie genoeg in die rekening nie?” vra Simon.

“Ek het straks te veel vleis of iets gekoop,” verduidelik sy. “En toe het ek van
my geld gebruik vir ’n paar goedjies vir die huis.” Sy kan glad nie verklaar
hoe dit gebeur dat sy haar begroting elke keer so gruwelik oorskry nie.

“Watse goedjies?” vra Simon.

“Ag, sommer kleinigheidjies,” antwoord Elizabeth skuldig.

“Het jy jou salaris vir huisgoed gebruik?” vra Simon verbaas. Toe frons hy.
“Jou hele salaris?”

“Alles was so ’n rapsie duurder as wat ek gedink het,” sê Elizabeth


ontwykend en breek haastig eiers in ’n mengbak.

’n Nare lankmoedige uitdrukking verskyn op Simon se gesig. “Moet ek meer


geld inbetaal?”

“Nee wat,” antwoord Elizabeth en raak doenig met die pan. Sy loer
bekommerd onder haar wimpers deur na Simon. Miskien moet sy na die goed
se pryse kyk voor sy koop. En dan kan sy ’n sakrekenaartjie koop en somme
maak voordat sy betaal. Dis ’n neerdrukkende gedagte, maar iets sal sy moet
doen. Van haar planne om ’n neseier bymekaar te maak het nog niks gekom
nie, en bykans die helfte van haar werktyd by Simon is reeds verby.

Sy sug en lig die kante van die omelet versigtig op sodat die rou eier onder
kan inloop, en toe die omelet soos ’n omelet begin lyk, hou sy haar asem op
en vou dit met ’n vinnige beweging toe. Perfek. Effens oorweldig deur haar
sukses laat sy dit op ’n bord uitgly. Nie verbrand nie, nie olierig nie en nie
stukkend nie. “Dis wat ek wil doen,” mompel sy.

Naomi verdeel die omelet tussen hulle borde. “Wat, omelette uit panne kry?”

“Huishou,” sê Elizabeth. “Ek het ontdek ek het die siel van ’n huisvrou.”

“Tuisteskepper,” sê Naomi. “En daarvoor is jy in die verkeerde eeu gebore.

Vroue is deesdae bevry.”

“Ek kan mos ’n bevryde huisvrou wees,” lag Elizabeth. Sy let op dat Simon
frons. “Is daar te min sout in die omelet?”

Hy skud sy kop. “Nee, dis lekker, dankie.”

Nogtans eet hy sy ontbyt stilswyend en met ’n bekommerde trek op sy gesig


voordat hy sy bord in die opwasbak sit. “Ek gaan see toe,” sê hy en stap uit.

“Kan jy dit glo,” sê Naomi verbysterd.

“Wat glo?”

“Hy het sy bord in die opwasbak gesit. Dit het ek nog nooit in my ganse lewe
aanskou nie.”

“Hy help waar hy kan,” sê Elizabeth. “Hy het eendag vir my ’n eier gebak,
maar met sy arm …”

Naomi raak onbedaarlik aan die lag. “Dit moet ek vir my man vertel,” sê sy
terwyl sy uitstap. “Hy sal nooit glo jy het Simon sover gekry om jou in die
kombuis te help nie.”

Elizabeth skud haar kop glimlaggend. Susters is nooit beïndruk deur hul
broers nie.

Sy vee die tafel skoon en tap water vir die skottelgoed. Snaaks hoe
bevredigend dit is om alles reg en aan die kant te hê. Dis asof sy in hierdie
eenvoudige, veeleisende roetine tot rus kom. Sy wil nie skoolhou soos
Katrien of in ’n muwwe kantoor werk soos Celeste nie. Nee. Wat sy wil hê, is
om in haar eie kombuis doenig te wees, met kinders en honde wat om haar
voete speel, en ’n man wat inkom en teen die kombuistafel leun met sy enkels
gekruis … en vir haar vertel van die moordtoneel in hoofstuk 4 wat
uiteindelik werk …

Haar selfoon lui en sy kom agter sy staan al wie weet hoe lank met haar
hande in die warm opwaswater en droom.

“Hallo,” sê haar stiefma. “Wat vang jy alles aan?”

“Ek ruim die kombuis op.”

“Arme jy,” simpatiseer Hermien.

“Ek geniet dit,” lag Elizabeth.

“Ja?” sê Hermien ongelowig.

“Glo my. Ek weet op La Fontaine het ek nooit ’n vinger verroer nie, maar
hier is ek in beheer van ’n huishouding, net soos die vrou wie se kookboek ek
gekry het, en …”

“Wie?”

“Ag, sy was ’n huisvrou. En dis wat ek ook wil wees.”

Hermien kraai van die lag. “Jy kan darem nonsens praat!”

Elizabeth swyg afgehaal. Sy is op die punt om maar weer te maak asof alles
’n groot grap is, maar dan sien sy die potte kruie op die vensterbank en die
kalm sonlig wat deur die boepensfles met heuning skyn, sy onthou Simon se
gesig toe hy haar aartappels eet … en sy steek viervoet vas.

“Dis nie nonsens nie,” sê sy ferm. “Om te stryk of toilette skoon te maak is
bepaald nie pret nie, maar ek is mal daaroor dat mense om my etenstafel lag
en gesels en ’n tweede keer skep van die kos wat ek maak. En buitendien …”
“Bly om dit te hoor, want dit pas perfek by my planne in.”

Dit duur ’n oomblik voordat sy besef Hermien lag nie meer vir haar nie.

“Watse planne?”

“Sê my eers, wanneer maak jy klaar by Rousseau?”

Dis soos ’n skoot koue water in die gesig. Het sy sowaar vergeet sy moet
weggaan? “So oor twee weke of wat,” antwoord Elizabeth beteuterd.

“Want dis hoekom ek bel. Ek wou vir jou werk aanbied.”

“Dis gaaf van jou,” sê Elizabeth bedruk. Sy dwaal na die trap toe en sit op die
boonste treetjie terwyl sy ingedagte, effe treurig, met haar trui se knope speel.

“Ek het gewonder of jy nie in die koffiekroeg wil help nie,” sê Hermien
energiek, “en noudat ek hoor jy hou van kook, weet ek sommer enigiets is
moontlik. Eers koffie en tee en ietsie om aan te peusel, en later, wie weet, ’n
volbloedrestaurant! Kan jy skons maak?”

“Skons!”

“Alle huisvroue maak skons,” sê Hermien onstuitbaar. “Oefen solank op jou


baas. Die enigste haakplek is dat dit ’n paar maande gaan kos om die ou
buitegebou reg te kry voordat ons kan begin, maar wat, jy trek maar net
solank hier by my in. Toe, wat sê jy?”

Dis soos Simon gesê het. Watse alternatief is daar? Elizabeth staar voor haar
uit.

“Elizabeth? Is jy nog daar?” vra Hermien. “Jy hoef jou nie te bekommer nie,
ek gaan jou ’n vet salaris betaal.”

“Dis reg so, Hermien,” sê Elizabeth. “Ek sal jou laat weet wat ek gaan doen
voordat ek by jou inval. Dankie dat jy aan my gedink het.”

Sy sit ’n hele rukkie op die trap voordat sy die skottelgoed gaan klaarmaak en
met die wasgoed begin. Die lewe kom nie tot stilstand wanneer Simon
Amerika toe vertrek nie, en ’n gesprek in ’n kombuis is nie ’n stewige
grondslag vir drome oor die toekoms nie. En in elk geval – sy snorklag vir
haar gedagtes, nes sy Simon hoor maak – met ’n lang gesig sal sy hom nie
sover kry om totaal beheer te verloor en haar weer te soen nie.

Sy gaan sit met Amanda se boek by die kombuistafel en begin aantekeninge


maak. Daar is iets omtrent die datums wat haar interesseer.

DERTIEN

Simon loop verby die leë vakansiehuise en kies koers oor die rotsagtige kus
Soldatepoel se kant toe. Daar is nie ’n mens in sig nie. Die meeue kantel
doodstil in die wind, die wolke is haastig en laag bo die grys see. Vandag
raak dit hom nie. Hy gaan sit aan die lykant van ’n rotsskouer en bekommer
hom oor Elizabeth.

Daar is ’n soort weerloosheid aan haar, haar opstandigheid en haastige


humeur ten spyt. Hy wens hy het dit nooit raakgesien nie. Sy krap sy hele
lewe deurmekaar. Hy kan dit hanteer dat hy fisiek tot haar aangetrokke is,
maar hy weier om verduiwels wakker te lê omdat hy vir haar verantwoordelik
voel. Is dit miskien sy skuld dat sy haar lewe lank gewoond was aan oorvloed
en gemak? Hy onthou hoe skuldig sy gelyk het omdat sy nie spek kan koop
nie. Hy glo nie sy is met opset spandabel nie, maar sy kan nie met geld werk
nie – het nooit geleer hoe nie – en dis sinloos om haar daaroor te verwyt. Wat
gaan van haar word wanneer hy Amerika toe vertrek?

Hy tel ’n klippie langs sy skoen op en slinger dit lomp met die linkerhand in
die water. Hy sal haar leer om ’n begroting op te stel en met haar praat oor
haar toekomsplanne. Binneversiering, dalk. Naomi het opgelet hoe huislik sy
die plek laat lyk. Of iets wat met wynproe te doen het. Maar ’n huisvrou?

Elizabeth? Dis die irriterendste ding wat hy al gehoor het. Hy staan op, krom
sy skouers teen die geniepsige wind en stap verder.

Kort duskant Pondjie Botter hou Allers se bakkie stil. “En waar gaan jy dan
heen?” roep Allers. “Wil jy nou op so ’n dag tot by Struisbaai foeter so al op
die klippe langs?”

“Dag, Allers. Ek loop sommer net.”

“Jy gaan sommer net natreën ook,” sê Allers. “Kyk hoe lyk die lug.” Hy leun
oor en maak die bakkie se deur aan die passasierskant oop. “Jy’s net so
onverskillig soos daardie meisiekind wat by jou werk.”

“Hoe bedoel jy, onverskillig?” vra Simon behoedsaam.

“Ek kyk haar so. Hardloop alleen-alleen in die vroemôre verby my.

Partykeer tot by die Suidpunt, ander kere Spookdraai se kant toe.” Allers
skud sy kop. “Groet al wat mens is. Gesels ook. Jy sal moet kyk. Die wêreld
is boos.”

“Ek gaan wragtig nie saam met haar draf nie,” sê Simon wrewelrig. “Sy draf
te vrek ver.”

“Te vrek vinnig ook,” sê Allers. “Jy sal straks nie bybly nie.”

Simon kry lag.

“Nee, vir haar sal ’n man nie maklik vang nie,” sê Allers en kyk skuinsweg
na Simon. “Of so het Luca my nog laas vertel voor hy ouetehuis toe is. Hy’t
gesê sy steel sy kruie uit Gina se tuin. Pietersielie en so. Het haar nooit
gevang gekry nie.”

“Ek sal met haar praat,” sug Simon.

“Sy kort ’n man wat haar kan oppas,” sê Allers alwetend.

Elizabeth sal nie sukkel om ’n man te kry nie, dis verseker, dink Simon
ontevrede. Hoewel hy moet erken dat Ruben se praatjies oor Elizabeth en al
die mans in haar lewe sommer nonsens is. Daarvan het hy nog niks gesien
nie.

“Ja, stomme Luca,” sug Allers. “Ook nou sleg op die afdraande pad.
Deurmekaar! Die helder tye raak al hoe minder. Smaak my dis nog altyd die
ding met Amanda wat hom ry.”

“Watse ding?” vra Simon sonder veel belangstelling, sy gedagtes steeds by


Elizabeth.

“Amanda was mos Luca se oudste kind. Sy het getrou met ’n Gersom van
Caledon. Daar was nou ’n gemors van ’n mens. Heeltyd agter ander
vroumense aan. Hulle het in die huis gewoon waar jy nou bly, maar toe ons
weer sien, verkoop hy alles en toe is hulle weg Johannesburg toe. Met
kleinkinders en al. Nooit weer van hulle gehoor nie.” Allers skud sy kop.

“Die mense sê Luca het demensie, maar ek sê vir jou, hy treur oor sy kind.

Hy het al die jare stilgebly oor die hele ding, maar nou is hy oud, en nou soek
hy vir Amanda.” Hy wissel ratte met ’n selftevrede gebaar. “Ja-nee, die lewe
maak met jou wat hy wil.”

“Dit kan jy weer sê,” mompel Simon. Hy wonder wat Elizabeth sal sê as sy
hoor wat die werklike storie agter die boodskappie in die kookboek is.

“Voor ek vergeet,” sê Allers toe hy voor die strandhuis se hek stilhou, “sê vir
Elizabeth die vrou bak môre. Sy sê die meisiekind kan kom kyk hoe, as sy
wil. Sy moet so sonuit kom.”

Simon kyk verbaas na Allers. “Hoe ken sy jou vrou?”

“Ek sê jou dan. Sy ken almal.”

Hy kyk die bakkie agterna totdat dit om die draaitjie anderkant Gina se huis
wegraak. Dit lyk asof Elizabeth ’n hele lewe voer waarvan hy nie bewus

is nie. Dit tref hom dat sy selde oor haarself praat. Diep ingedagte stap hy
boontoe en kyk oudergewoonte by die kombuis in.

Elizabeth staan met haar voete wyd uitmekaar geplant, asof sy haar gereed
maak vir ’n geveg. Met uiterse konsentrasie giet sy melk oor ’n
maalvleiskonkoksie in ’n erdebak. Haar tong se puntjie steek by die
mondhoek uit.
Dis asof ’n sagte, meedoënlose hand sy keel toedruk, asof sy hart te groot
word vir sy bors. Hy weet ineens hy sal dit nooit regkry om haar die waarheid
oor Amanda en Gersom te vertel nie. As sy deur die lewe ontnugter moet
word, wil hy nie die een wees wat dit doen nie. Laat sy maar liewer in
sprokies bly glo.

Hy behoort om te draai, maar tree onwillekeurig vorentoe.

’n Stralende glimlag verlig haar gesig toe sy hom sien. “Bobotie,” sê sy trots.

Hy steek vas, sukkel om die belaglike opwelling van vertedering te


onderdruk en gaan sit só dat die tafel tussen hulle is.

“Is daar …” Hy skraap sy keel. “Is daar pietersielie in?”

“H’m-’m. Net amandels en rosyntjies. Wil jy ’n paar hê?” Sy hou ’n bakkie


rosyne na hom toe uit.

Gedwee aanvaar hy haar aanbod. Hy moet seker eers die pietersieliestelery


uit die pad kry voordat hy oor haar toekoms praat, maar hoe moet hy die saak
aanroer? Hy stop die rosyne in sy mond en kou eers klaar. “Allers sê …”

Elizabeth meet ’n koppie rys af en laat val dit met ’n sagte geruis in ’n
kastrol.

“Allers sê sy vrou bak môreoggend vroeg,” sê hy lafhartig. “Jy is blykbaar


genooi.”

“Sy het gesê sy sal my leer om ’n gesondheidsbroodjie te bak. Dis glo


maklik.” Sy gryp die bakkie rosyne onder sy hand uit en bêre dit in die kas.

“Jy kan nie nog kry nie,” sê sy baasspelerig. “Jy bederf jou eetlus. Naomi is
langsaan by Gina en ek het gesê sy moet so oor ’n halfuur terug wees vir ete.”

“Ek hoop sy bring ’n bossie pietersielie saam,” sê Simon en kyk haar


ondersoekend aan.

Sy grinnik en druk haar tong teen haar voortande vas soos ’n stout kind, maar
pleks van antwoord, sit sy die bobotie versigtig in die oond en stel die
stoofhorlosie. Sy sit die ryskastrol op die agterste plaat en begin slaai maak.

Hy verskuif ongemaklik op die stoel.

Sy kyk op, ’n avokadopeer in haar hand. “Wat pla, Simon?” Sy laat sak die

groentemessie. “Ek weet ek is nie heeltemal op datum met die tikwerk nie, en

… en Naomi het per ongeluk koffie gestort op ’n paar blaaie wat jy hier voor
die kaggel vergeet het …” Sy byt op haar onderlip. “Ek druk dit weer ná
middagete.”

Hy glimlag. “Dis nie jou skuld nie,” sê hy gerusstellend. En dan gaan daar

’n lig vir hom op. Daar is tog iets wat hy vir haar kan doen. “Van die tikwerk
gepraat,” sê hy. “Ek begin stadigaan besef dit gaan vir jou onmoontlik wees
om voor te bly. Dis vandag die …” Hy wil na sy horlosie kyk, maar dit lê in
sy kamer.

“Die dertiende,” sê Elizabeth.

Is dit al die dertiende? dink hy met ’n soort skrik. Hy het nog net twee weke
saam met haar oor. “Ek behoort nog ’n week besig te wees met die fyner
beplanning, maar daarna gaan dit lol. Dan is dit dialoog en paragraafindelings
en so aan. Die gips word oor veertien dae afgehaal en die dag daarna gaan ek
Amerika toe. Gaan liewer op jou tyd aan en e-pos die goed vir my terwyl ek
daar is. Behalwe …” Hy maak asof hy glo sy het verder gedink as wat haar
neus lank is. “Behalwe as jy ander planne het?” sê-

vra hy. Dis nie ’n permanente oplossing nie, maar dis beter as niks, dink hy
verlig, en nou kan hy met ’n geruste gemoed aanvaar hy het sy plig gedoen.

“Jy kan solank in my huis bly, totdat jy ander byplek kry, natuurlik.”

“Sal jy tyd hê om aan die storie te werk so tussen die toesprake en die
handtekeningsessies deur?”

“Ek maak tyd.”


Sy knip-knip haar oë voordat sy afkyk. “Dis gaaf van jou om jou huis vir my
aan te bied, maar ek sal jou manuskrip op die plaas tik.” Sy sny die
avokadopeer middeldeur, skep die pit behendig uit en sny die vrug in skywe.

“Hermien het vanoggend gebel.” Sy drup suurlemoensap oor en sit dit


eenkant. “Ek gaan in haar koffiekroeg werk.” Sy trek die slaaibak nader, vryf
die binnekant met ’n knoffelhuisie en haal blaarslaai uit die yskas. “Ek sal
dus dankbaar wees vir die tikwerk. Dit sal my besig hou en sakgeld gee totdat
ek Frankryk toe gaan.”

“Frankryk,” herhaal hy. ’n Yskoue gevoel van verlies kom lê in sy bors.

“Ja,” sê sy. “Ek het nog nie vir Naomi of vir Ruben gesê nie, maar die
koffiekroeg maak eers oor ’n paar maande oop, en tot dan toe wil ek by
Ruben bly en ’n paar idees by hom steel vir Hermien se plek. Soos ek haar
ken, gaan dit in ’n restaurant ontaard.” Sy lag vermakerig. “Ruben dink nog
altyd ek kan nie eens ’n eier kook nie. Gaan hy verras wees!”

Met elke woord wat sy sê, beweeg sy verder buite sy bereik. “Moet jy nie vir
Ruben waarsku dat jy kom nie?” protesteer hy.

“Ag, nooit.” Sy neem ’n tamatie, hou dit in die palm van haar hand en sny

’n onverstaanbare vertikale patroon daarin. Weer en weer en weer. “As hy


agterkom ek wil in werklikheid ’n rukkie lank vir hom werk, sal hy sê ek mag
nie kom nie. Dis beter om net op te daag.” Sy sny horisontale skywe. Netjiese
klein blokkies tamatie val in die slaaibak.

“Jy wil dus ’n sjef word,” sê hy kras.

Sy lag. “Ek hou van kook, maar ek is nie so dom dat ek reken ek kan ’n sjef
word net omdat ek twee weke lank kosgemaak het nie.”

Wat ’n swaap was hy nie. Elizabeth het hom nie nodig nie. Hy bekommer
hom siek oor haar, en intussen beplan sy doodluiters ’n hele toekoms vir
haarself. Daaroor behoort hy verlig te wees, dink hy bekaf.

Hy stoot sy stoel van die tafel weg. “Dan gaan jy tog maar terug La Fontaine
toe. Waar gaan jy bly? By Hermien in die huis?”

“Aanvanklik, ja, maar ek wil my eie plek hê. Onthou jy die arbeidershuisies
waarvan ons gepraat het? Nadat ek met haar gesels het, het ek besluit ek gaan
een help opknap en dan huur ek dit sodra ek my eerste salaristjek by haar kry.
En onthou net: Ek gaan terug, maar nie as iemand wat op ander hoef te teer
nie. Hierdie keer sorg ek vir myself.” Haar gesig versag.

“Hermien kan maklik iemand anders kry as sy wil. Iemand met kwalifikasies
en ervaring. Sy is ’n wonderlike vrou.”

“Jy verbaas my,” sê hy onwillig.

“Hoekom?”

“Jy’s baie …” Hy kan nie op die regte woord kom nie. Moedig?

Verstandig? “Volwasse,” hoor hy homself sê.

“En daaroor verbaas jy jou,” sê sy gekrenk.

Hy trap rond. “Dit beïndruk my,” sê hy oorhaastig. “Ek bedoel, dit beïndruk
my meer as daardie waansinnige plan van jou om ’n huisvrou te word.”

“O? Maar ek kan nog altyd ’n huisvrou word. As ek met die regte man trou,
bygesê.”

Die rys begin prut. Sy skuur agter hom verby om kleefplastiek uit ’n kas te
haal, en saam met haar kom die geur van roosmaryn. En ’n sweempie
peperduur parfuum.

“Tog net nie ’n man soos Lionel nie,” mor hy binnensmonds.

Sy lag. “Nee, nie ’n man soos Lionel nie, Simon, eerder ’n man soos jy.”

Hy verstyf. “Soos ek?”

“Ja,” sê sy ongeërg. “Iemand wat in die nabyheid is in geval van grillerige


spinnekoppe of rampe soos die krag wat afgaan, maar wat my verder uitlos
sodat ek kan doen wat ek wil. So iemand.” Sy begin die tafel dek.

“Verstaan ek jou reg?” sê Simon. “Jy wil met iemand trou wat jou sal uitlos,
en jy dink ek is die soort man wat sal toelaat dat sy vrou doen wat sy wil?”

Sy lag haar sagte keellaggie. “Nie regtig nie. Jy los uit lank voor dit by
vrouvat kom. Toe, ek wil dek en jy is in die pad.”

Hy staan haastig opsy, net om weer in haar pad te beland. “Ek gaan my hande
was,” sê hy waardig. “Roep my wanneer Naomi kom.”

Hy kan sweer sy het gegiggel toe hy uitstap.

VEERTIEN

Elizabeth se vingers huiwer bokant die toetsbord. Sy skuif die pyltjie na


Express Scribe se kontrolepaneeltjie sodat sy die laaste paar woorde weer kan
hoor. Sy tik haastig, grom vir die skerm en skuif die pyltjie om weer eens
seker te maak … Hoe harder sy probeer konsentreer, hoe minder vordering
maak sy. Sy klik op die pousekontrole en staan op om rooibostee te gaan
maak. As sy nog koffie drink, styg sy op van al die kafeïen.

Simon se kamerdeur gaan oop, en sy hoor hy pak vuurhout in die kaggel.

Dankie tog. Dit beteken – hopelik – dat hy nie nog werk op die rekenaar laai
nie. Sy vorder vinniger met die tikwerk vandat Naomi weg is, maar sy is
steeds baie verder agter as waarvan sy hou, selfs al het Simon gesê dit maak
nie saak nie.

“Tee?” roep sy.

“Nee, dankie,” antwoord Simon.

Sy gaan sit haar tee by die rekenaar neer en hurk langs hom om die vuur aan
die gang te kry. “Is jy klaar vir die aand?”
“H’m.” Hy gooi hom in die leunstoel neer en strek sy lang bene.

Sy gaan sit weer voor die rekenaar, teug aan die tee en klik op “play”.

Simon trek ’n gesig toe hy sy stem oor die luidsprekers hoor. “Nee, sit af,”

sê hy gewalg. “Ek is wragtie nie lus om na myself te luister nie.” Hy gaan


haal ’n bottel pinot noir en hou dit sodat sy die etiket kan sien. “Kan ek jou
omkoop?”

“Met goeie wyn? Maklik,” sê sy en skakel die rekenaar af. Sy maak die bottel
oop terwyl hy glase kry, en toe skop sy haar skoene uit en stap op haar rooi
sokkies tot voor die vuur.

“En?” vra Simon toe sy aan die wyn proe. “Gaan jy nie weer ’n
indrukwekkende wynontleding maak nie?”

Sy kreukel haar neus vir hom en gaan sit plat op die mat.

“Selfs al kan jy?” vra hy.

Sy herken ’n uitdaging as sy een kry, maar vanaand is sy nie lus om iemand


te beïndruk met haar wynkennis nie. Sy sit die glas neer en strek haar voete
na die vuur toe uit.

Simon grinnik. “Jou hele liggaam voer gedurig die een of ander gesprek,”

sê hy lui.

“My liggaam?”

“Ek weet byvoorbeeld dat jy nou verleë voel.”

“Is nie,” verweer sy onseker.

“Jou tone het boontoe gekrul want jou voet het per ongeluk aan die koue teëls
geraak en jy’t nie daarvan gehou nie. En nou krul jou tone ondertoe asof hulle
wil wegkruip want jy is verleë.”
Sy snork geringskattend. “Lyftaal.” Sy probeer haar voet onder die ander een
wegsteek. “Dis sommer bog.”

“O? Sal ek jou nog iets van jou lyftaal vertel?”

“Nee, dankie,” keer sy haastig en teug aan die wyn.

“Ek vermoed jou arme liggaam doen die praatwerk omdat jy so min oor
jouself te sê het.”

Sy kyk onbegrypend na hom.

“Hoekom, Elizabeth?” vra hy.

Dit klink na ’n ernstige vraag. “Natuurlik praat ek oor myself,” sê sy.

“Aanmekaar.”

“Nogal nie.”

“Jy laat dit klink asof ek ’n duistere geheim het, Simon! Dis maar net dat die
gesprek nooit in so ’n rigting gaan nie.”

Hy lyk nie oortuig nie. “Ek was net verbaas toe ek nou die dag agterkom
Allers weet meer van jou doen en late as ek.”

“Maar Simon, jy het my nooit gevra nie,” sê sy verwonderd.

Hy kyk weg. “Dit wil nie sê ek stel nie belang in wat jy doen nie,” mompel
hy ongemaklik.

“En wat sal ek jou so danig vertel? Jy is ’n bekende man wat al alles gedoen
en ervaar het. Hoe interessant kan dit wees dat ek melk gekoop het of met
Allers se vrou gesels het? Jy is mos laf.”

Hy kyk na haar met ’n eienaardige uitdrukking op sy gesig, asof hy in ’n


hoek gedryf is en nie weet hoe hy daar beland het nie.

“Ek vind dit net vreemd,” sê hy styf, “dat jy elke dag by my in die huis is en
ek weet feitlik niks van jou nie. Ek weet nie waarin jy belangstel of wat vir
jou belangrik is nie.” Hy kyk haar beskuldigend aan. “Of wat jou interesseer
nie. Ek weet net jy hou van blomme.”

Sy staar hom aan. “Oukei,” sê sy liggies en wip orent. Sy gaan haal Amanda
se kookboek in die kombuis en vly haar op die mat neer. “Dít is wat my
interesseer.”

“Die kookboek? Hoekom wag jy nie tot ek Naomi se Jamie Oliver-boek vir
jou in die hande kry nie?” sug hy.

“Daar is net resepte in. Dié een het meer. Kom kyk.”

Hy skuif teësinnig van sy stoel af en kom langs haar sit.

“Jy het nou die dag die datums by die resepte gesien, nè? Wel, daar is notas
ook bygeskryf,” sê sy. “En hier is die aantekeninge wat ek gemaak het.” Sy
maak die boek oop en skuif ’n velletjie papier oor die mat na hom toe. “Drie
jaar lank volg die datums kort op mekaar, soos sy die resepte bemeester.
Maar dan is daar ’n groot sprong. ’n Volle vyf jaar is daar niks geskryf nie,
tot mens by die koekstruifresep kom.” Sy trek haar vinger oor haar lysie
datums. “Sien? ‘Boetie se doop’, met ’n datum by.”

“Interessant,” sê hy. “Ek weet daar was …”

“Wag,” maak sy hom stil. “Jy het gevra waarin ek belangstel, en nou moet jy
luister.”

“Ek luister,” sê hy, “maar Allers …”

“Hou nou op om my in die rede te val! Jy sien, die datums is leidrade, soos in
jou stories. En toe reken ek, agt jaar getroud, en dan eers sprake van ’n doop?
Dit was ongewoon vir daardie tyd. Ek dink,” sê sy geheimsinnig,

“Amanda het gesukkel om swanger te raak.”

“Of miskien het sy ’n ander kookboek begin gebruik,” glimlag Simon.

“Miskien. Maar hierdie boek het sentimentele waarde. Onthou, haar man het
dit vir haar gegee toe sy ’n bruid was. In elk geval, ná die doop begin sy weer
datums byskryf.” Sy tik op die papier. “Meestal by resepte vir kinders.

Kyk hier. Hier’s een wat wys hoe jy ’n paddastoel maak met ’n tamatie en ’n
hardgekookte eier.”

“Die mannetjie was ’n tamatiehater.” Simon strek hom op die naat van sy rug
uit en vou sy arm onder sy kop.

“’n Mens kan ’n hele lewe in hierdie kookboek sien,” sê sy ernstig. “Dis
miskien nie so ’n opwindende lewe soos wat vroue deesdae veronderstel is
om te hê nie, maar … Ek weet nie, Simon. Vir my is dit wonderlik. Daar is ’n
huwelik en die uitdaging om vir haar man te leer kook, basaars, teepartytjies,
die geboorte van ’n kind waarvoor sy lank moes wag.” Miskien is haar stem

’n bietjie te verlangend.

Simon lê en staar na die plafon. Hy is nie beïndruk nie.

Sy sug ongeduldig. “Wel, hier is iets wat jou mag interesseer. Kyk na hierdie
resep. Dis ’n sous wat jy oor spaghetti gooi.” Sy wys dit vir hom.

“Met die hand geskryf,” gaap hy.

“Ek het dit hier tussen die konfytresepte gekry waar die blaaie aanmekaar
vasgesit het – van die konfyt of van nattigheid, het ek eers gedink, maar
binne-in kry ek toe die resep. Dit lyk asof sy dit weggesteek het tussen blaaie
wat sy doelbewus toegeplak het.”

Simon steek sy hand lui uit en neem die resep.

Elizabeth sit regop. “Ek dink,” sê sy vertroulik, “Amanda was Luca se


minnares.”

Simon se wenkbroue wip boontoe.

“Hy noem my Amanda,” sê Elizabeth verdedigend, “en hy het vir my


basiliekruid vir spaghetti gestuur. En in Amanda se kookboek steek sy ’n
Italiaanse sousresep weg, en lees ’n bietjie hier: vars basiliekruid!”
“Dis ’n interessante moontlikheid,” sê Simon sedig. “Amanda maak dus vir
haar Italiaanse minnaar – dis nou Luca – spaghetti terwyl Gersom van die
huis af is.”

“Wat is so snaaks daaraan?” vra Elizabeth gebelg.

“Het jy die hele resep gelees?”

“So min of meer. Ek het nie spaghetti in die huis nie, en dit gaan mos nie
regtig oor die resepte nie.”

Hy raak hulpeloos aan die lag en beduie na die laaste sin. “Die resep is vir ses
mense, Elizabeth.”

“O,” sê sy bekaf. “Dis maar net wat ek gedink het.”

“Jou twee minnaars sou heelnag sit en spaghetti eet en te vol wees vir
owerspel.”

“Sies, Simon,” kla sy verleë, “ek het nie ’n kop vir speurwerk soos jy nie.”

“Jammer, Elizabeth,” sê Simon. “Allers het my vertel Amanda was Luca se


dogter.”

“Sy dógter? Nee wat. Allers maak ’n fout. Dit pas glad nie by my storie in
nie.”

“Dis ’n goeie storie, moenie ’n fout maak nie,” lag Simon.

Sy frommel haar nota op en gooi dit vies oor haar skouer. “Hoekom het jy
my nie gesê nie? Ek het nagte lank hieraan gewerk.”

“Want jy het my nooit vertel waarmee jy besig is nie. Ag, en in elk geval, jy’s
reg. Wilde raaiskote is interessanter as feite.” Hy vee die lagtrane uit sy oë.
“Veral jou soort raaiskote. Ek oorweeg dit sterk om jou saam te vat Amerika
toe want boekbekendstellings is die verveligste goed wat daar is.”

So snaaks is dit nou ook nie. “Sodat jy iemand het vir wie jy kan lag, nè,”
sê sy verontwaardig.

“Ek wou dit nou nie so reguit sê nie,” sê Simon en koes haastig toe sy ’n hou
na hom mik. “Oppas, oppas, my arm,” lag hy. “Jy sal tog nie ’n man met sy
arm in gips te lyf gaan nie.” Hy gryp haar hand vas. “O nee, jy sal nie, jou
klein merrie,” sê hy soos hy honderd keer tevore gesê het toe sy klein was en
met hom gestoei het.

“Dis wat jy dink,” dreig Elizabeth en mik na sy maag. “Jy het vergeet ek het
nog ’n hand, nè!”

“Wag nou! Wag, ek kan nie …” steun hy en pluk haar hand eenkant toe sodat
sy bo-oor hom val.

Sy gryp sy trui se kraag en draai. “Sê jy is jammer,” beveel sy tussen haar


tande deur. “Anders wurg ek jou.”

“Elizabeth.”

Sy verstewig haar greep, wriemel tot sy wydsbeen bo-oor hom kniel en klem
sy heupe tussen haar knieë vas. “Gee bes en pleit,” sê sy uitasem.

“Ek …”

Onder haar voorarm voel sy sy hartklop. Haastig. Net so vinnig soos hare.

Sy greep op haar hand verslap en sy ruk los. “Het jou!” roep sy triomfantelik
uit.

“Jy het my,” sê hy met ’n vreemde laggie. “Skei uit.”

Sy lag saggies, skielik asemloos. “O nee, ek het die oorhand. Pleit.”

“Ek pleit,” sê hy en maak sy oë toe asof hy pyn het. “Los nou. Jy … jy is te


jonk om te weet wat jy besig is om aan te vang.”

Haar kop ruk terug. “Ek is nie,” sê sy.

Nou eers raak sy bewus van die spanning in sy lyf, snaarstyf onder haar.
Hitte flikker in haar. Sprei verstommend tussen hulle en ontvlam. Dis nie
meer die stoeispeletjies van destyds nie.

Hy moet haar huiwering aanvoel, want hy klem sy vuis agter in haar klere en
trek haar saggies van hom af terwyl hy op sy sy rol. Sy kom langs hom te
lande met een been oor sy heup, sy arm half onder haar. Hy rus op sy
elmboog, sy oë donker van begeerte en iets wat na aan woede is. Hy begin
orent kom asof hy wil opstaan. Instinktief keer sy. Hy wil haar hê. Sy weet
dit. Net soos sy hom wil hê. Sy verstewig haar greep op sy trui en trek sy kop
na haar toe af. Sy asem is vlak en ongelyk. ’n Lang, lang oomblik huiwer hy.

Dan buig hy sy kop laer, vee met sy lippe oor haar voorkop en begin
wegbeweeg.

“Simon,” pleit sy.

“Moenie,” sê hy saggies.

Sy verstaan nie. “Hoekom?”

“Want ek wil jou hê, Elizabeth,” sê hy kwaad, asof dit uit hom geforseer
word. “Die vader hoor my, ek wil jou al hoe lank hê en …”

Haar mond vind syne en smoor sy woorde.

Hy maak ’n geluid agter in sy keel en gee mee. Sy tong sink weg in haar
mond, hard en eisend; sy lippe skroei haar, ru en oplaas ongeduldig, te
honger vir teerheid. Sy wring teen sy lyf aan, weet nie waar sy is nie, wil
oplos in die sagte geweld van sy soen, wil smelt. Sy druk haar hand onder sy
trui in want sy wil meer hê, wil hom voel. Teen haar handpalm span die lang
spiere van sy rug onder die vuurwarm gladheid van sy vel.

Asof hy homself tot stilstand dwing, lig hy sy kop effens, sy asem hortend
teen haar vel, en skuif sy vingertoppe oor haar lippe. Sy kan nie genoeg van
hom kry nie. Met ’n kreun neem sy sy vingers in haar mond en stoot haar
hand oor sy heup, oor sy harde maag tot teen die band van sy sweetpakbroek.

Hy trek sy vingers weg en keer met sy seer arm. “Wag,” sê hy haastig.


Sy wil nie na hom luister nie en beweeg ongeduldig teen hom, maar hy sak
terug sodat hy op sy rug lê, sy arm soos ’n band van staal om haar. “Nou pleit
ek regtig,” sê hy kras en uitasem. “Ons kan nie.”

Sy verstrak. Die gedagte skok deur haar: Hy vat nie aan haar nie; sy lê in sy
arm, maar hy het haar net gesoen. Niks meer nie. Sy is die een wat haar aan
hom opdwing …

Yskoue skaamte spoel deur haar. Sy krimp weg, maar hy dwing haar saggies
teen hom aan en hou sy hand oor haar agterkop.

“Jy … jy wil nie,” stamel sy.

“Hemel, Elizabeth,” sê hy onvas. “As jy dink ek wil nie … Kan jy nie my


hartklop voel nie? Kan jy mý nie voel nie?”

Sy lig haar kop en kyk na hom. “Maar …”

“Maar niks,” sê hy met ’n skor laggie. “Ek het nie voorsiening vir so iets
gemaak nie.”

“Vir … wat bedoel jy?”

“Voorsiening, Elizabeth, beskerming.” En toe sy nog steeds nie verstaan nie,


sug hy. “Ek het nie beplan om meisies te onthaal met jou hier in die huis nie,
en ek het beslis nie voorsien dat … dat Ruben se sustertjie my totaal sou
oorrompel nie, as jy dan nou moet weet. En onbeskermde seks is uit.”

Haar wange word vuurwarm. “O.”

“Ja, o,” grom Simon.

Sy lê doodstil teen hom. Skamerig sit sy haar hand teen die kolom van sy

nek. “Jammer,” sê sy saggies.

“Jy het vervlaks rede om jammer te wees,” mor Simon. “Dit moes nooit sover
gegaan het nie. Dit moes, om die waarheid te sê, nooit begin het nie.”
Nogtans is sy vingers liefkosend om haar agterkop en in haar hare. “En in elk
geval, hoe op aarde kan ek enigiets doen met ’n vervlakste arm wat af is?”

vervolg hy met so ’n totale gebrek aan logika dat sy glimlag.

Sy wikkel haar wang vaster teen sy bors, teen sy hart wat steeds nie tot
bedaring kom nie.

“Buitendien,” sê hy ferm, “’n meisie soos jy verdien dit om die hof gemaak te
word, op die outydse manier. Lank en stadig.”

“Wel, daarna sien ek uit.” Sy maak haar oë toe. “Jy kan sommer môre al
begin.”

“Hopelik,” sê Simon, “het ek môre tot my sinne gekom.”

Sy lig haar kop vinnig en verontwaardig.

Hy trek sy vingers stadig deur haar hare. “Ek is te oud vir jou, Elizabeth,”

sê hy saggies.

“Is dit nie iets waaroor ek self kan besluit nie?” Sy sit regop en neem sy gesig
tussen haar hande. “En aangesien jy dan so vreeslik oud is, moet ons maar
gou spring voordat die jig en die cholestrolprobleme jou lamlê, dan nie?” Sy
buig oor hom en plant ’n klein, sagte soentjie op sy onderlip.

Hy glimlag onder haar mond. “Jy is heeltemal onmoontlik. En dit was ’n


nagsoen,” keer hy haastig voordat sy haar verkenningstog kan voortsit. “Lyk
my ek het geen weerstand teen jou nie. Toe, op is jy.”

“En die wyn?” protesteer sy.

“Moet wag tot môre,” sê hy baie ferm.

Hy slaan sy arm om haar skouer toe hulle teen die trap afstap en trek haar vir
oulaas voor haar kamerdeur teen hom vas.

“Tot môre,” sê hy toe hy haar uiteindelik laat gaan.


VYFTIEN

Toe sy in die oggendlig met die trap wil opstap, is Theodore se motor die
eerste ding wat sy sien. Sy glimlag verbaas. Hy kom nooit so vroeg na hulle
toe nie. Toe sien sy Simon se tas.

“Môre,” groet sy die mans by die kombuistafel. “Simon, hoekom staan jou
tas hier by die deur?”

Simon kyk op en kom stadig orent.

“Hier’s jy,” sê Theodore. “Ons het al gedink ons moet vertrek voor jy wakker
word.”

“Vertrek?” vra sy. “Gaan julle dan …” sy swyg verward.

“Eers by my huis langs en dan lughawe toe,” sê Simon.

“My mense het reggekry om nog twee lokale vir Simon se


boekbekendstelling te reël,” sê Theodore. “Sy reisprogram begin dus heelwat
vroeër as wat ons beplan het. My sekretaresse sukkel al dae lank om ons in
die hande te kry, want my selfoon was af en sy het net Simon se huisnommer.

Met die gevolg dat ek eers laat gisteraand haar SMS gekry het. Simon was al
in die bed toe ek gebel het.” Sy oë flits na Simon. “Dis ’n geharwar,
Elizabeth, maar Amerikaanse dollars is nie te versmaai nie.”

“Jy kon my mos maar wakker gemaak het, Simon,” sê sy seergemaak. Sy


probeer die verwyt uit haar stem hou, maar kry dit nie reg nie en kyk af. Hy
kon haar gisternag al wakker gemaak het. Hoekom het hy nie?

Sy trek haar rug regop. “Wanneer moet jy op die lughawe wees?” vra sy vir
Simon.

“Vanmiddag al,” sê Simon met ’n merkbare gebrek aan geesdrif.


“Julle sal dit nooit met die Land Rover haal nie,” sê Theodore. “Hy gaan dus
sommer saam met my. Daar is bowendien ’n probleem by die werk wat ek
persoonlik wil hanteer, en met die gelol met Simon se vertrektyd, het ek my
verlof kortgeknip.”

Sy knik. “Ek sal die Land Rover bring wanneer ek klaar hier skoongemaak
het.” Haar stem is klein, maar sy tjank ten minste nie, dink sy. “Ek sal môre
of oormôre eers ry, want daar is nog wasgoed wat gedoen moet word. Lakens
en handdoeke en … en vadoeke.”

“Nou ja.” Theodore klap sy hande teen mekaar. “As jy gereed is, Simon

…”

“Ek weet net nie of …” Simon skraap sy keel. “Elizabeth, is jy seker jy sal
regkom met die Land …”

“Doodseker,” maak sy hom stil.

Theodore rinkel sy motorsleutels.

“Naomi bring vir Battie om my by die huis te help voor ek lughawe toe
gaan,” sê Simon. “Hier is jou stel sleutels. Wanneer ek terugkom van
Amerika sal ek dit by jou kom haal.”

“Teen daardie tyd is ek waarskynlik in Frankryk,” keer sy. “Ek sal sorg dat
die sleutels by Naomi is. En jou skootrekenaar, as jy nog wil hê ek moet die
tikwerk hanteer.”

“Natuurlik wil ek dit hê. Hoe lank bly jy by Ruben?”

Sy staar hom stilswyend aan.

Simon se vingers sluit saggies om haar arm. “Wanneer kom jy terug,


Elizabeth?”

Sy trek haar arm weg en gaan staan by die wasbak. “Ek weet nog nie.”

Simon aarsel, stap tot by die deur en draai weer om. “Moenie ry as dit reën
nie, ek vertrou nie die ruitveërs nie. Ek het ’n boodskap op die rekenaar gelos
met al die besonderhede wat jy nodig het. Telefoonnommers, e-posadresse …

Jy weet hoe om dit af te laai.”

“Moenie bekommerd wees nie, ek sal sorg dat alles glad verloop.” Haar
glimlag is breed en betekenisloos. “Geniet jou reis. En voorspoed. Versigtig
ry, Theodore, ek hoop jou skrywers maak sommer baie geld vir jou.”

Theodore omhels haar en soen haar hartlik. “Was lekker om jou te leer ken,
Elizabeth. Jammer vir die ontwrigting.” Hy knipoog vertroostend.

“Bel my wanneer jy by die huis kom, Elizabeth,” sê Simon saggies.

Dis laf, en hulle weet dit albei. “Ek sal SMS.”

Hy is al by die deur uit toe hy weer omdraai. “Jy weet nou waar jy die
ruitveërs aanskakel, nè?”

Sy slaag daarin om te glimlag, al bewe haar lippe. “Dis daardie dingetjie wat
soos ’n fietsdinamo met ’n werwel lyk,” sê sy liggies.

Hy glimlag skeef. “Mooi loop, Elizabeth.” Dit lyk asof hy nog iets wil sê.

Hy kyk na Theodore wat met kwalik bedekte ongeduld wag en stap haastig
tot by haar, soen haar hard en vinnig op die mond en stap uit.

Sy strek haar hand onwillekeurig na hom uit, roep amper sy naam.

Die voordeur gaan agter hulle toe en sy hoor hulle by die trap afstap. Sy is
doodseker die deur sal weer oopgaan. Sy weet hy sal wag tot Theodore by die

motor is en dan terugkom en verduidelik, haar in sy arms neem, ten minste


behoorlik groet.

’n Motordeur klap toe.

En toe klap die tweede deur en die motor trek weg.


Haar bene gee onder haar pad. Sy sink in ’n stoel neer en luister na die enjin
se geluid totdat sy dit nie meer kan hoor nie. Toe luister sy na die leë huis,
sonder om juis aan enigiets te dink.

Uiteindelik staan sy op en stap tot in Simon se kamer. Sy bed is nog


onopgemaak. Lusteloos dwaal sy na die rekenaar toe, maak die lêer oop wat
hy “Elizabeth” genoem het en klik op “play”.

“Hallo, Elizabeth.” Haar oë mag maar vol trane raak. Daar is niemand wat
haar sien nie. “Wanneer Theodore môreoggend kom, sal daar nie tyd wees vir
alles wat ek vir jou wil sê nie. Jy sal wonder hoekom ek nie na jou kamer toe
gaan en self vir jou vertel nie, maar …” Daar is ’n langerige stilte oor die
luidsprekers, asof hy na woorde soek. “Maar dit sal onregverdig wees.

Teenoor ons albei. Jy weet wat ek probeer sê. Ek voel jou nog teen my vel …

En as ek nou na jou toe gaan, sal ek nie kophou nie. Jy … jy kruip in ’n mens
se hart in. Ek hoop …” Sy stem breek skielik af.

Daar

is

’n

lang

stilte.

Sy

kyk

na

Express

Scribe
se

miniatuurkontrolepaneeltjie waar ’n groen stafie die tydsduur van die opname


aandui, en sien dis nog maar die begin van die boodskap.

“Ek het ’n aparte lêer geskep met ’n e-posadres waarheen jy die tikwerk kan
stuur, en telefoonnommers waar jy my of Naomi kan opspoor,” gaan hy
voort. “Nag, Elizabeth. Ek hoop jy slaap beter as ek.”

Die groen stafie rek steeds langer. Daar is ’n sagte geritsel, die geluid van

’n kasdeur, ’n kraan wat loop. Sy soek ’n snesie. Hy het vergeet om die


bandmasjien af te skakel. Sy hoor hoe hy die venster oopmaak, en dan is dit
stil. Sy laat sak haar kop op haar arms. En wip soos sy skrik toe sy stem
onverwags weer opklink.

Dis baie sag. Sy stel die volume en spoel terug.

“Elizabeth,” sê Simon saggies. Haar naam klink soos ’n sug. Sy hoor ’n


hopelose verlange daarin, asof haar naam ’n liefdesverklaring is wat hy nie
kan maak nie.

Sy vee die trane van haar wange af. Hy moet vanoggend eers die lêer op die
rekenaar gelaai het, sonder om agter te kom hy het daardie laaste stukkie, wat
so duidelik sy gevoel vir haar verraai, die vorige aand op band vasgelê.

Die stukkie waarna sy nou kan luister net soveel kere soos sy wil.

Sy speel dit weer. En hierdie keer, omdat sy weet waarna sy moet luister –

en omdat sy hom ken – steur sy haar nie soseer aan die woorde nie, maar
konsentreer op sy stem. Sy hoor die wankelende selfbeheersing, die frustrasie
omdat hy nie na haar toe durf kom nie, want hy begeer haar.

Dis maar ’n effense vertroostinkie om aan te klou. Daar is geen waarborg dat
hy na haar toe sal terugkom nie. Dalk hoor sy maar net wat sy wíl hoor.

Maar dis al wat sy het – hierdie wete, teen alle redelikheid in, dat dit vandag
nie die einde van haar verbintenis met Simon is nie.
Sy skakel die rekenaar af en gaan staan by sy bed. Sy trek die duvet na haar
toe en sien ’n vel papier, asof hy iets in die bed gelees het wat uit sy hand
gegly het toe hy aan die slaap raak.

Onder haar verkreukelde lys datums uit Amanda se boek, kry sy nog ’n
flentertjie papier. Verwonderd lees sy die drie woorde in haar handskrif
daarop. Tiemie. Roosmaryn. Salie.

Hy het haar kruielysie heeltyd by hom gehou.

Theodore sug hoorbaar. “Simon, jy kan nie net ‘ja’ sê as ek vra of ek by


Bredasdorp of Peregrine moet stop vir ontbyt nie.”

“Enige plek. Dit maak nie saak nie,” sê Simon.

“Kom ons begin van voor af. Ek het gevra of jy al ontbyt geëet het. Jy’t gesê
nee. Toe vra ek of jy honger is, waarop jy ja antwoord, en nou sê jy dit maak
nie saak waar ons eet nie. Waaroor tob jy so?”

Simon kyk gesteurd na hom. “Ek dink maar net ek het vergeet om vir
Elizabeth te sê wat sy omtrent die yskas moet doen voordat sy huis toe gaan.”

Theodore kyk hom skeef aan. “Wil jy hê ek moet omdraai sodat jy haar kan
sê? Van die yskas?” vra hy sarkasties.

Simon trek sy bolip op en grom iets onverstaanbaars.

“Dis nie nodig om my kop af te byt nie,” grinnik Theodore. “Dit het jy mos
gisteraand al gedoen. En vanoggend weer. Ek het nog nooit so ’n ondankbare
mens gesien nie. Jy gaan Amerika toe, Simon, Amerika! Dink net aan al die
beeldskone en gewillige vroue wat hulle voor jou voete sal neergooi en oor
jou boeke swymel. ’n Mens sou sweer jy wil nie gaan nie.”

“Ek wil gaan,” sê Simon iesegrimmig. “Jy het geen idee hoe dankbaar ek is
nie. As jy nie gebel het nie, het ek die fout van my lewe gemaak.”

Theodore gooi sy kop agteroor en brul van die lag. “Met Elizabeth?”

Simon staar buierig by die venster uit.


“Erken dit nou maar, dis Elizabeth wat jou so ontstig. Ek kon dit van die
eerste dag af sien,” sê Theodore plesierig.

“Wat kon jy sien?” vra Simon onthuts.

“Dat jy nie jou oë van haar kan afhou nie. Toe, erken dit. Jy is mal oor haar.”

“Theodore. Sy is te jonk vir my.”

“Wel, sy sal ouer word, jy weet.” Theodore knipoog.

Simon sê niks.

“Ek het gisteraand vir Celeste gebel,” sê Theodore ’n paar kilometers verder.
“Sy het ’n ultimatum uitgedink. Óf ek trou met haar óf ek sien haar nie weer
nie.”

“En?”

“En toe kom ek agter jy weet eers wat jy wil hê wanneer jy dit amper kwyt
is.”

“Amper kwyt?” herhaal Simon. “Beteken dit jy het op ’n troudatum besluit?”

“Ek dink daaroor. Ek dink ernstig,” antwoord Theodore tot sy verbasing.

Die luuksemotor ruis beskaaf voort. Telefoonpale vlug een-een agtertoe


verby, asof dit die motor is wat stilstaan en die pale wat beweeg, op pad terug
na Elizabeth toe.

Theodore vroetel in sy sak en gee sy selfoon vir Simon. “Bel haar.”

Simon gaap hom aan.

“Oor die yskas,” sê Theodore. “Voor dit te laat is.”

Elizabeth ken nie die nommer wat op haar selfoon se skermpie verskyn nie.

“Elizabeth Devereux,” sê sy ontmoedigend.


“Hallo, Elizabeth Devereux,” sê Simon.

Sy spring op. “Simon! Waar is jy? Julle kan mos nog nie by die huis wees
nie?”

“Ons is by Peregrine. Theodore wil iets eet.”

“En … en jy?” Haar hart gaan so tekere dat sy haarself skaars kan hoor praat.
“Is jy dan nie honger nie?”

“Nogal.” Sy hoor die glimlag in sy stem. “Luister, ek het vergeet om te sê jy


sal die yskas moet laat afsmelt.”

Sy luister geduldig na sy verduideliking van koerantpapier wat die water


moet opsuig, hoe sy moet onthou om die krag af te sit, waar sy die strandhuis
se sleutel moet los. Asof dit dinge is wat sy nie self kan uitvind nie.

Toe is daar niks meer om te sê nie, maar sy dink nie daaraan om te groet en
die foon af te skakel nie. En hy blykbaar ook nie.

“Ek moet gaan,” sê Simon in die warm stilte. “Sien jou.”

Die laaste twee woorde is so aarselend dat dit soos ’n vraag klink.

“Sien jou,” verseker sy hom.

Sy vou die selfoon in albei hande toe en druk dit teen haar vas.

Alles is meteens baie eenvoudig.

Sy weet wat Simon nodig het. Hy wil iemand hê wat sterk en onafhanklik is –
’n vrou soos sy, om die waarheid te sê, wat hom kan leer dat avonture nie net
in boeke bestaan nie, en dat daar veel te sê is vir liefdesverhale wat in die
werklike lewe afspeel. Hy moet dit nog net agterkom, dis al. En tot dan toe

… wel, tot dan is daar Ruben se restaurant, Hermien se koffiekroeg, die res
van Amanda se kookboek.

Môre of oormôre sal sy die yskas leegmaak en die vars goed wat oor is vir
Allers se vrou gee. En wanneer sy op La Fontaine is, sal sy Simon se
manuskrip klaarmaak en die Porsche verkoop sodat sy geld het om Frankryk
toe te vlieg.

Na regte behoort sy dan dadelik ’n goedkoper ryding aan te skaf en die orige
geld vir ’n retoerkaartjie gebruik.

Eintlik is dit maklik om goeters soos begrotings te hanteer as jy net wil,


mymer sy hoopvol. Sy strek haar arms bokant haar kop en glimlag. Sy sal
heeltemal tevrede wees met een van daardie oulike goedjies wat haar net van
punt A na punt B kan kry. Dalk een van die nuwe Mini’s. Of ’n Smart Car.

SESTIEN

Simon is moeg. Van New York is hy direk na Parys, waar hy ’n motor gehuur
en ’n padkaart gekoop het. Nie dat dit gehelp het nie. Hy was twee jaar laas
hier om by Ruben te kuier, en toe het hy ook verdwaal en ure gemors op smal
plattelandse paadjies, net soos nou. Hy behoort na regte êrens in ’n hotel in te
boek en eers te slaap, maar hy is keelvol van onpersoonlike hotelkamers waar
jy niemand ken nie en op kamerdiens moet staatmaak as jy lus is om aan iets
te peusel.

Hy vryf oor sy oë. Die paar weke in Amerika was uitmergelend en hy kon nie
vinnig genoeg daar wegkom nie. Buitendien, hy het Ruben gebel en dié het
gesê Elizabeth ontstig sy klante.

Hy maak plek vir ’n oorhaastige Fransman wat van agter af wil verbykom.

Eintlik is hy moeg daarvan om na Elizabeth te verlang. Hy moet haar weer


sien. Want dan sal hy gou genoeg agterkom die hele ding is buite alle
verhouding opgeblaas net omdat hy by haar wou slaap en toe nie kon nie. Hy
glimlag grimmig. As hy haar weer sien, sal sy hopelik net nog ’n meisietjie
wees wat hom ’n bietjie laat kop verloor het, en dan kan hy in vrede met sy
lewe aangaan. Sy het waarskynlik lankal iemand anders ontmoet.
Maar hy wil haar net vashou. Hy sal tevrede wees as hy haar nog net een keer
kan vashou en soen, al is dit dan net totsiens.

En omdat hy weet hy belieg homself, ry hy verby die afdraaipad wat hom


hopelik op die regte pad mag kry.

Hy hou stil en tel die padkaart op. ’n Ou Citroën ry stadig verby.

Ongelooflik. Waarskynlik die enigste versigtige motoris in Frankryk. Simon


draai die kaart om en probeer sin maak van wat aangaan. ’n Renault kom met

’n vaart van agter af aan. Toe dit verbyblits, herken hy die logo op die deur:

’n fonteintjie wat sierlik spuit bokant letters wat La Petite Fontaine spel. Hy
gooi die padkaart eenkant toe en trek haastig weg. Uiteindelik glimlag die
geluksgodin hom toe. La Petite Fontaine is Ruben se restaurant, en dit moet
een van sy voertuie wees. Hy hoef dit net te volg, en voilà!

Hy haal Ruben se motor in waar dit opgehou word deur die stadige Citroën
wat lekker onbeskof in die middel van die smal pad kuier sodat niemand kan
verbykom nie en maak dat almal teen dertig kilometer per uur agter hom

moet aanpoer. Hy bedwing sy ongeduld. Dis Frankryk. Wat het hy verwag?

Op hierdie onmoontlike paaie kan enigiets gebeur.

Die Renault toeter, versnel effens en stoot sy neus tot feitlik teenaan die
Citroën se buffer. Simon haal sy voet van die petrolpedaal af. As hulle in
mekaar wil vasry, is dit hulle probleem. Teen hierdie snelheid kan daar nie
groot skade wees nie, en vir twee histeriese Franse wat in ’n botsing betrokke
is, sien hy ten ene male nie kans nie.

Die bestuurder in die Renault leun ver by die venster uit en wys groot
onbeskofte gebare vir die padvark. Die kort swart hare wapper in die wind.

Sy hart ruk. Elizabeth!

’n Flits warmte spring deur hom; blydskap sonder gedagtes.


Dis ongetwyfeld Elizabeth. Onverantwoordelik soos altyd lig sy al twee
hande van die stuur in ’n gebaar van dramatiese ongeloof oor die patetiese
bestuurder van die Citroën. Hy kan al hoor hoe grom sy van frustrasie.

Hy glimlag. Natuurlik is hy bly om haar te sien. Dis tog hoekom hy hier is.

En enigiemand sou bly wees om so onverwags, so in die middel van niks, ’n


bekende gesig te sien.

Elizabeth se remligte flikker. Flikker weer. En dan, roekeloos, skiet sy


vorentoe, twee wiele op die grasbegroeide skouer van die pad, net toe ’n
plaastrekker van regs af by die hoofpad inry en die Citroën se remligte
aangaan. Simon word koud. Elizabeth swaai wild na links terwyl sy rem trap
en mis die Citroën se agterbuffer met sentimeters, maar die wiele gly op die
strook gruis langs die teer en die motor skuif skuins op die enigste sipres af
wat langs die pad groei. Sy mis dit amper, maar selfs ’n bestuurder soos
Elizabeth sou nie kon verhoed dat die kant van haar modderskerm die boom
tref nie. Die sipres se takke bibber.

“Elizabeth!” bulder Simon en staan op sy rempedaal. Sonder om te wag dat


sy motor behoorlik tot stilstand kom, pluk hy aan die handvatsel langs sy arm
en stamp sy skouer teen die deur wat onverstaanbaar toe bly. Dis gesluit. Sy
hande bewe so dat hy nie die knoppie kan vasvat wat dit oopmaak nie. Hy
sien al Elizabeth se bebloede gesig, hoe sy vasgepen agter die stuurwiel sit,
hoe hy te laat by haar kom om haar te help … Met die angssweet koud op sy
gesig, kry hy sy deur oop en vlieg uit.

Die trekker dreun onverstoord verder; die Citroën versnel en ry aan. En


Elizabeth spring uit haar motor en hardloop tot in die middel van die pad
terwyl sy haar vuis skud.

“Stommerik!” gil sy agter die verdwynende voertuig aan.

Simon stuit in sy spore. Sy het niks oorgekom nie, dink hy duiselig van
verligting, en dit laat die skok in woede omsit. Elizabeth het ’n kortbroek aan
en ’n streephempie wat nie haar maag toemaak nie. Hy sien haar deur ’n rooi
waas.
Sy gooi haar hande in die lug en draai om. En sien hom.

“Simon,” sê sy verbysterd, en toe verhelder haar gesig.

“Moenie jy vir my Simon nie!” brul hy en loop briesend op haar af. “Hoe kan
jy so onverskillig wees? Die vader weet, ek is lief vir jou, maar ek behoort
jou te skud dat jou tande ratel!” Op die een of ander manier is sy arms om
haar. Hy bewe so groot soos hy is.

Sy kyk na hom met haar groot, skitterende oë. Haar mond hang effens oop.

“Wanneer leer jy dan jy kan nie net … net jaag nie?” bulder hy harder. “Jy
kon verskriklik seergekry het, Elizabeth, en ek sê jou nou, as daar een rede is
waarom ek dit hoegenaamd sal oorweeg om enigiets met jou uit te waaie te
hê, is dit om vir jou ’n ryding te kry wat nie …”

“Is jy?” vra sy heserig.

“… vinniger as vyftig kilometer per … Wát?”

Haar arms kruip om sy nek. “Jy het gesê jy is lief vir my,” sê sy.

“Wel, ek … wel … dis …” stotter hy. Wat het hy aangevang?

Daar skuil ’n laggie in daardie mooi, moedswillige oë van haar.

“Jy moet baie groot geskrik het,” troos sy toe hy te lank stilbly en probeer
haar saggies uit sy arms loswoel.

Onwillekeurig verstewig sy greep. “Nee,” keer hy. “Jy verstaan my


verkeerd.” Hy kan haar nie laat gaan nie. Dis tog belaglik.

“Wat dan, Simon?”

Hy kyk radeloos na haar. “Ek … ek het dit regtig bedoel. Ek is …” Dis iets
wat hy nog nooit vir ’n vrou gesê het nie; die woorde het altyd soos ’n
visgraat in sy keel bly steek, want dit was nooit voorheen die waarheid nie.

Maar hy was Elizabeth amper vir ewig kwyt, en nou, hier, soos ’n
wonderwerk, staan sy lewend in sy arms.

“Ek is lief vir jou,” sê hy huiwerig.

Sy kantel haar kop en trek haar wenkbroue effentjies op. “Is jy seker?”

Hy kan nie glo wat hy hoor nie. “Natuurlik is ek seker,” antwoord hy


verontreg. “Dink jy dis iets wat ek sommer vir die lekkerte sal kwytraak?

Hoe dink jy moes ek voel toe ek agterkom …”

Sy laat hoor haar sagte keellaggie wat nie heeltemal ’n giggel is nie.

“… toe ek agterkom,” hervat hy stadig en voel hoe die spanning uit sy lyf

sypel, “dat ek in ’n vreemde hotelbed wakker word en verwag om jou gesig


op die kussing langs myne te sien. Dat ek voor ’n klomp mense staan wat na
elke woord luister wat ek sê, terwyl ek iemand in die agterste ry soek wat
gaap en kombuis toe slenter omdat sy pietersielie oor letterlik elke enkele
soort kos onder die son wil strooi. En dat ek vervlaks nie kans sien vir die
blondine met die lae halslyn wat by my kamer opdaag met ’n bottel
sjampanje in die hand nie, en van haar ontslae raak want dis nie jy wat daar
staan nie.”

“Regte sjampanje?” vra sy beïndruk. “Nie ordinêre vonkelwyn nie?”

“Dom Pérignon. ’n Hele bottel.”

Dit laat haar lag, en daarom doen hy wat hy eintlik reg van die begin af moes
doen. Tydsaam, asof hy dit vir die res van sy bestaan wil doen, soen hy haar.

In die stowwerige sipres begin die een of ander voël sing. Dis ’n jubelende,
optimistiese lawaai met weinig note en ’n oormaat vertroue in doodgewone
wonderwerke – soos dat die son skyn, en dat daar ’n nes in die nabyheid is.

Asof die lewe iets is om te vier. Iewers antwoord ’n maat.

“Ek is baie lief vir jou,” sê hy.


Elizabeth kyk na hom asof hy die enigste man is wat vir haar saak maak.

“Ek is ook lief vir jou,” sê sy, effens uitasem. “Al lankal.”

In hom kom alles tot rus. “In daardie geval,” sê hy, “sal ek die Land Rover
vir jou moet gee.”

En toe soen hy haar tot sy ophou protesteer.

Thea Holland woon by die see. Wanneer sy tyd het, skilder sy “met meer
geesdrif as talent”, want sy glo dit laat haar beter skryf. Sy lees kompulsief,
luister graag na ou Amerikaanse blues en hou ook van haar bure se musiek.
Sy is lief vir kerrie wat so sterk is dat dit jou ooghare afskroei, en natuurlik
ook die ongelooflike sjokoladekoek wat haar skoondogter bak. Daarby is sy
baie erg oor haar seun en sy gesin.

Vorige titels deur Thea Holland:

’N ONVERSTANDIGE VROU

NOG ’N CASANOVA

Romanza is ’n onderafdeling van LAPA Uitgewers (Edms.) Bpk.

Bosmanstraat 380, Pretoria

Tel: 012 401 0700

E-pos: lapa@lapa.co.za

www.lapa.co.za

© Teks: Thea Holland

© Publikasie: LAPA Uitgewers (Edms.) Bpk.

ISBN 978-0-7993-5215-3 (gedrukte boek)

ISBN 978-0-7993-5265-9 (ePub)


© Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige
manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die
kopiereghouers nie.

Table of Contents

Titelblad

Een

Twee

Drie

Vier

Vyf

Ses

Sewe

Agt

Nege

Tien

Elf

Twaalf

Dertien

Veertien

Vyftien

Sestien
Meer oor die skrywer

Kolofonbladsy

TUSSEN TWEE

VURE

ANNETJIE VAN TONDER

www.lapa.co.za

EEN

Leliestraat 10. Uiteindelik is sy hier. Helette Boshoff trek haar asem sag in,
hou dit ’n paar tellings binne en blaas dit dan weer stadig uit.

Met haar hand oor haar oë om die son af te weer, neem sy die omgewing
waar. ’n Welaf buurt. Nommer 10 steek in geen opsig af teen die res nie. Dis
’n pragtige plek. Groot en imposant. So anders as die vierkantige huisie met
sy piepklein voorstoep en vierkantige grasperk waar sy grootgeword het.

Vir die soveelste keer maak sy seker van die adres in haar dagboek.

Dis beslis die regte plek. Sy is ma Marna innig dankbaar dat sy bereid was
om te help om haar biologiese suster op te spoor. Sy en pa Paul was destyds
so ingenome om uiteindelik, na jare se wag ’n baba te kry, dat hulle nie in
verdere besonderhede belanggestel het nie. Hulle wou net die
aannemingsproses so vinnig as moontlik afgehandel kry.

Gelukkig kon ma Marna nou die drade deur die maatskaplike werkster optel.

Noudat sy hier is, kom daar ’n vlaag van vertwyfeling oor Helette.

Doen sy die regte ding? Sê nou daar wag net groot teleurstelling? Dalk glo
die mense haar nie. Miskien wil haar suster niks met haar te doen hê nie.
Volgens die gegewens wat sy het, is haar biologiese ma kort na die bevalling
oorlede. Sy het darem die foto’tjie, en al is dit al ietwat dof, kan mens tog die
gelaatstrekke daarop eien. En die hare. “Sien jy, dieselfde lang raafswart
hare, nes joune,” was ma Marna se kommentaar toe sy die foto vir Helette
gewys het. Ook die gordyntjie, laag, tot net bokant haar wenkbroue. Saam
met die foto was die ligroos gebreide bababaadjie en -kousies. Dit was die
jong vrou se wens dat die aanneemouers dit moet neem en later aan die kind
moet wys. Maar

die naam agter op die foto het met die jare so verdof dat dit nie meer leesbaar
is nie.

Al die huise in hierdie woonbuurt is so groot, met parke vir tuine. Sy het nog
altyd gereken professore is belangrike mense, maar het nooit kon droom hulle
bewoon sulke paleise nie. Ou geld? Daaroor hoef sy gelukkig nie haar kop te
breek nie, daar is baie belangriker sake wat sy met professor Du Vos, of
eerder sy vrou, wil bespreek – sake van kardinale belang.

Toe die soektog aan die lig bring dat hulle eie pa al oorlede is, was daar
darem nog drade wat haar na hierdie adres toe kon lei. En nou sit sy met
hierdie kennis dat haar suster se naam Sandria is en dat sy met professor Du
Vos getroud is. Hulle pa was Martin Hough, ’n bekende sakeman. Dalk
Sandria se erfgeld wat hierdie huis gekoop het?

Dis nogal vreemd om in hierdie tye ’n huis sonder veiligheidshek en


gietystertralies te sien. Helette druk die elektriese deurklokkie en hoor hoe dit
diep in die maag van die huis weergalm.
Benoud kou sy aan haar onderlip. Wat ook al gebeur, sy moet haar voet by
hierdie deur inkry.

Helette teug diep aan die soet geur van die struik by die voordeur.

Byna bedwelmend hang dit in die warm lug. Mens moet die magiese krag
van geur nie onderskat nie. Yesterday Today and Tomorrow noem die
Engelse die struik met sy wit, lig-en donkerpers blomme. Mag die atmosfeer
in die huis tog net so aangenaam wees.

’n Gevoel van afwagting fladder in haar binneste. Binne oomblikke gaan sy


haar biologiese suster van aangesig tot aangesig sien. Hoe lank droom sy nie
al van hierdie oomblik nie! Dit sal seker ’n hewige skok vir mevrou Du Vos
wees om van haar bestaan kennis te neem. Dalk dink haar suster sy is die een
of ander fortuinsoeker wat kom aas.

Sy druk weer die voordeurklokkie en wag. Dit kan ook wees dat sy voor
dooiemansdeur te staan kom … sy sal maar geduldig wag. Dalk sit die vrou
gou lipstif aan. Moontlik is sy by die werk, maar in daardie

geval is hier seker iemand wat die huishouding behartig.

Van pure senuwees pluk sy ingedagte een van die blomme en vryf sag
daaroor terwyl haar gedagtes weer ’n eie koers neem. Sy het wel die foto
saamgebring, maar Sandria du Vos sal geen benul hê wie dit is nie, sy het
mos ’n ander ma gehad. Dis die pa, wat sy nooit geken het nie, wie se bloed
hulle deel, dink Helette bedroef en wonder weer eens of hy ooit van haar
bestaan bewus was. Sandria se ma kon sy nie opspoor nie en sy wou ook nie,
sy wou die onaangename skok dat haar man by iemand anders ook ’n kind
verwek het, vir haar spaar. Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat die
vrou dit al die jare geweet het.

Arme mens.

Net toe Helette uit pure moedeloosheid omdraai om te loop, gaan die
voordeur skielik oop en twee kwaai staalgrys oë loer na haar bokant ’n
goueraambril. Die man se deurmekaar blonde kuif is óf nie gekam nie óf
bedoel om na ’n moderne styl te lyk. Ten spyte van die feit dat hy so streng
lyk, kan Helette nie help om heimlik te glimlag nie. Het sy hier te doen met
die spreekwoordelike verstrooide professor, of dalk ’n baie moderne man? Sy
swart jeans en T-hemp vertoon baie byderwets en vorm ’n sterk kontras met
die blonde hare.

Aantreklike man, glip dit deur haar gedagtes, mooi gebou. Watter vak sou hy
doseer? Sy kan haar nogal voorstel hoe die jong studentedames sy klas vol sit
en aan sy lippe hang.

“Goeiemôre, professor Du Vos, ek …”

“Hoe bly is ek om jou te sien, kom binne. Jammer dat jy so lank moes wag,
maar die vrou wat my huishouding behartig, is siek en ek moet nog haar plek
ook probeer volstaan.” Soos wolke wat voor die son wegskuif, verander sy
frons in ’n verwelkomende glimlag en die grys oë versag. “Dis nou vir jou
vinnige reaksie. Die advertensie het eers gister in die koerant verskyn. Maar
kom gerus binne dat ons kan gesels.”

Verdwaas tree Helette oor die drumpel en kyk hoe die deur weer

agter hulle toegaan. Advertensie? Sou haar suster dalk ook van haar bestaan
bewus geword het en ’n soektog begin het? Dit lyk sowaar asof die man haar
verwag het. In daardie geval maak dit dinge sommer baie makliker.

En sy vrou? Waarom het sy nie kom oopmaak as sy haar verwag het nie?

“Stap sommer saam studeerkamer toe, hoe vinniger ons sake kan regsien, hoe
beter.” Hy beduie na ’n oop deur wat feitlik regoor die voordeur uit die
ingangsportaal loop.

Regsien? Sy wil so gou as moontlik haar suster te siene kry, met háár dinge
regsien, of liewer uitpraat. Miskien weet sy vrou nog niks en hou die
professor dit as ’n verrassing; wil hy eers doodseker maak dis die regte
persoon wat opgedaag het. Wel, hy hoef nie te vrees nie, sy is die regte
suster.

Haar oë gly nuuskierig oor alles in die ingangsportaal terwyl sy daardeur


stap. Blinkwit marmerteëls weerkaats die lowergroen plante rondom ’n klein
visdam waarin goudvissies met blink lywe deur die helder water gly. Die
effek is koel en verwelkomend. ’n Groot venster reg agter die visdam gooi
helder lig op die watervlak en maak dit spieëlblink.

“Sit gerus,” beduie hy toe hulle die ruim studeerkamer binnestap.

Die leunstoel se sagte roesrooi leerbekleedsel voel koel, en al is sy redelik


lank, voel sy baie klein in die bonkige stoel. Hy neem oorkant haar op die
bypassende rusbank plaas, leun gemaklik terug en strek sy bene voor hom uit.
Lang bene, merk sy, en duur aanglipskoene aan sy voete. Vir so ’n groot man
het hy nie buitengewoon groot voete nie. Sy kyk skuldig weg, hy moet tog
nie sien sy bestudeer sy voete nie.

Hy haal sy bril af, sit dit langs hom op die bank neer en vryf sy oë vir ’n wyle
asof hy moeg is. Toe rus sy blik weer peinsend op haar. Kyk hy haar nou
deur? wonder Helette; hy lyk skielik so streng, byna ongenaakbaar.

Toe glimlag hy. “Die gode moet my goedgesind wees om jou so gou hierheen
te stuur.”

Ryk baritonstem. Sy verluister haar daaraan, dit val soos musiek op die oor.
Onrus kom sit egter stewig op haar skouer toe dit wel nugter tot haar
deurdring dat hy gepraat het van iemand wat haar na hom gestuur het. Sy
moet verkeerd gehoor het, want dit is tog onmoontlik.

Sy sal in die vervolg moet konsentreer wanneer hy praat, sy is nie meer

’n jong student nie.

“Jy sal seker verstaan dat ek graag meer van jou wil weet.

Agtergrond, huwelikstatus indien jy getroud is, kwalifikasies, belangstellings


en of jy van kinders hou,” gaan hy voort.

“Hu?” Sy sit regop, vies vir haarself dat sy haar so verluister het aan die ryk
stem. Sy het definitief iewers iets gemis. Wat het hierdie inligting te doen met
die rede waarom sy hier is? Hy behoort mos net dankbaar te wees dat die
voorwerp van sy vrou se soektog, indien sy ook gesoek het, sonder enige
moeite hier by hulle opgedaag het.

“Ekskuus, hoe bedoel jy?” O, gits. Moet sy hom nie eerder as “u”

aanspreek nie? Hy is tog ’n professor. Maar dit klink so outyds en daar is mos
nie ’n generasiegaping tussen hulle twee nie.

’n Effense frons verskyn tussen sy oë. “Juffrou … Mevrou?”

“Helette Boshoff, ongetroud, was nog nooit getroud nie,” vul sy vinnig aan,
steeds verleë omdat sy geen benul het waarna hy verwys nie.

Hy knik. “Aangename kennis, juffrou Boshoff. Ekskuus, ek het myself ook


nog nie voorgestel nie. Abel du Vos.”

Sy knik stram en vertrou nie haar stem nie. Hy het natuurlik nie ’n idee dat sy
presies weet wie hy is nie. Gelukkig is hy nie titelbehep nie, dit maak hom
meer toeganklik, al lyk hy so streng. Abel. Sy hou van die naam, dit klink
sterk en manlik.

“Jy kan tog seker verstaan dat dit vir my moeilik sal wees om my kind in die
sorg van ’n wildvreemde te laat,” gaan hy voort. “Daarom

moet ek so veel as moontlik van jou te wete kom, veral hoeveel ervaring jy
van au pair-werk het en of jy lief is vir kinders, maklik met hulle klaarkom.”

Dit voel asof ’n klomp miere in haar keel afhardloop en ’n hewige hoesbui
oorval haar. Dit gebeur altyd wanneer sy skrik.

“Water. Drink,” kom die bevel toe hy die glas na haar toe uithou.

Sy probeer nie eens wonder waar hy dit so vinnig in die hande gekry het nie,
sluk net die koel vloeistof terwyl sy nadink oor die nuwe wending. Dan is dit
waarom hy haar verwag het. Die advertensie waarvan hy gepraat het, was vir
’n au pair en hy het toe sommer aangeneem sy het daarop gereageer en dis
waarom sy nou hier is. En hier is sy so opgewonde soos ’n kat wat ’n muis
gevang het, net om te ontdek dis toe al die tyd ’n rubbermuis. Sy sal hom eers
laat klaar praat voor sy hom reghelp.
Miskien moet sy hom reguit vra oor sy vrou. Seker ’n werkende moeder,
daarom dat hulle iemand nodig het om na die kind om te sien.

Mevrou, haar halfsuster, sit tien teen een nou by die werk en die professor,
met moontlik genoeg af periodes, moet maar kind oppas.

“Mevrou Du Vos … werk sy voltyds?” vra sy versigtig. Dankie tog, haar


stem klink heel normaal.

Hy kry ’n veraf uitdrukking in sy oë en dit lyk byna asof hy haar nie gehoor
het nie. “Oorlede,” kom dit gedemp oor sy lippe, asof hy nie daaroor wil
praat nie.

Oorlede? Dit voel asof sy van ’n hoë krans af grond toe val. Dit kan nie wees
nie. Sy het dan so gehoop. Eindig haar soektog dus hier?

Teleurstelling spoel oor haar. Sy het haar suster verloor voor sy haar nog kon
vind. En al het sy haar nooit geken nie, ervaar sy ’n pynlike gevoel van
verlies.

“Ek is baie jammer om dit te hoor,” onthou sy oplaas haar goeie maniere.
“Wanneer? Hoe?” Al weet hy dit nie, dis vir haar ’n persoonlike knou.

“Leukemie. Ons het haar agtien maande gelede begrawe.”

Skielik besluit Helette sy wil hier kom au pair, al het sy dit nog nooit in haar
lewe gedoen nie, want hierdie kind is deel van haar biologiese familie. Sy sal
die aanvanklike doel van haar besoek verswyg. “Is die kind ’n seun of
dogter?”

“’n Dogter. Vier jaar oud. Haar naam is Sanja.”

’n Dogtertjie; sou sy na haar ma lyk? ’n Gevoel van vertedering oormeester


haar. Sy weet niks van kinders nie, maar het opeens ’n brandende begeerte
om hierdie kind te leer ken. “Ek het nie ’n CV

gebring nie, maak dit saak? Ek sal graag die werk wil hê want ek het dit
dringend nodig.” Sy kruis haar vingers ongemerk. Dis darem nie heeltemal ’n
leuen nie, sy moet iewers ’n inkomste kry. Op ma Marna se nek kan sy nie lê
nie.

Hy vou sy arms en kantel sy kop. “Toemaar, vertel my van jouself: waar jy


oral gewerk het, hoekom jy as au pair werk, of jy enige kwalifikasies het.
Enigiets wat jy dink ek behoort te weet.”

Sy sluk. Hy gaan dit vreemd vind dat sy met haar kwalifikasies wil au pair,
maar die waarheid moet seker maar uit. ’n Leuen sou haar kon red, maar al
loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal dit wel

– ma Marna se geliefkoosde spreuk. Dis beter dat hy dit uit haar eie mond
hoor as wat hy dit later op ’n ander manier uitvind. “’n Studiebeurs het my
vyf jaar lank in die buiteland aan die lewe gehou terwyl ek besig was met ’n
doktorsgraad in musiek. Ek wil my nou toelê op kontemporêre komposisie.
Maar Suid-Afrika is nie Europa nie, daar is goeie befondsing vir kunstenaars,
hier moet ek myself aan die lewe hou.” Sy vervies haar vir haarself, vir wat
klink sy nou so beteuterd? Hy sal definitief nou wonder waarom sy nie by die
universiteit se musiekdepartement gaan aanklop nie, of haar dan ten minste
op musiekleerlinge toespits nie.

Sy arms val langs sy sye terwyl sy wenkbroue teen sy voorkop uitklim. “Jy
wil au pair met ’n doktorsgraad agter jou naam?”

O maggies, die man lyk kwaad. Hy vertrou natuurlik nie die vrede nie. Sy
moet toegee, dit lyk seker baie verdag.

“En wat dink jy, wat sal dóktor Boshoff se salaris moet wees?”

Sarkasme drup uit sy woorde. Sy stem klink soos ’n suidpoolwind wat oor
haar waai. Hy glo nie dat sy werklik ’n doktorsgraad of enige geleerdheid het
nie. Hy dink dis leuens. Sy kan dit hoor aan sy stemtoon; sy gesig vertel dit
baie duidelik. Met geen bewyse hier by haar nie sal sy hom nooit kan oortuig
nie.

Toe staan hy op. “Nee wat, Júffrou, ek dink jy moet maar gaan, jy mors my
tyd, daar sal wel betroubare kandidate opdaag. Jy probeer voorgee wat jy nie
is nie. Ek kan nie my kind in ’n ongebalanseerde persoon se hande laat nie.”
Sy staan stadig op. Net soos hy, loop sy ook nie gedurig met haar titel te koop
nie, daarom het sy hom nie vroeër reggehelp toe hy haar as

“juffrou” aangespreek het nie. Maar een ding is seker, niemand mors met
Helette Boshoff nie.

“Ek vra jou nie om my te glo nie,” sê sy afgemete en is vir die soveelste keer
dankbaar vir haar lengte, want sy kan hom in die oë kyk. “Ek was nog nooit
een vir leuens nie, en het nie denkbeeldige grade nodig nie. Hoe dankbaar is
ek nie dat ek jou nooit in my voorgraadse jare op die kampus raakgeloop het
nie, dan was my siel jare gelede al vergiftig.” Sy hoop haar stem klink nou
net so ysig.

“Moenie saamstap nie, ek sal self regkom.”

Asof hy haar nie gehoor het nie, loop hy vooruit en maak die voordeur oop.
Die soet geur stroom saam met die helder sonlig binnetoe. Sy vlug as ’t ware
na buite. Om só die deur gewys te word is uiters vernederend.

Hy staan nog in die deuropening toe sy terugkyk, sy mond stroef en sy oë


onleesbaar. Só moet dit seker gevoel het toe die Berlynse muur mense so
skielik van mekaar afgesny het, heeltemal ontredderd.

Toe sy haar motorsleutel uit haar skouersak haal, vat sy die harde

stukkie plastiek raak en haal dit uit. Een van die naamkaarte wat sy vir haar
oorsee laat maak het. “Dr. H. Boshoff” staan dit daar, met haar kwalifikasies
en die naam van die bekende Europese universiteit waar sy studeer het.

Vinnig stap sy terug voordeur toe en glip die kaartjie onder die deur in.

TWEE

Helette weet sy is wakker, maar kry nie haar oë oop nie, haar ooglede voel te
swaar en ’n dowwe hoofpyn klop agter haar oë. Met moeite sukkel sy haar oë
oop en verwonder haar aan die vroeë oggendlig wat deur die oop gordyne
skyn. Vandat sy kan onthou, slaap sy met oopgetrekte gordyne om saam met
die dag wakker te word, met ’n helder verstand en gelaai met kreatiwiteit.
Maar vanoggend voel sy ’n nul op ’n kontrak. As sy nou iets komponeer, sal
dit moet heet “In die wurggreep van pyn”, en die melodie sal stilte wees.

Dan kom die vorige dag se gebeure weer by haar op. Sy kreun. Wat

’n vernedering. Nog nooit in haar ganse lewe het sy sulke behandeling


ontvang nie, was sy al so beledig nie. Ag, en haar navorsing het in ’n
doodloopstraat beland. Miskien ook maar goed haar halfsuster leef nie meer
nie, daar is dus niks verder te onthul nie.

Sy skuif regop teen haar kussings, trek haar knieë op en slaan haar arms om
haar bene. En tog sou sy baie graag meer te wete wou kom oor haar pa. Uit
die gegewens wat sy kon kry, het hy sy vrou verneuk en sy rug op die ander
vrou gedraai toe sy swanger raak. Dus was haar eie ma die spreekwoordelike
ander vrou. Het sy die man verlei, of andersom? Sonder die ware feite kan sy
oor nie een van die twee oordeel nie.

’n Paar grys oë dring hulle ongevraag aan haar op. Abel du Vos. As die
studentedametjies net weet hoe ongeskik hy kan wees, sal hulle miskien
minder swymel. Toe tart die blonde kuif haar weer. Teen wil en dank moet sy
erken hy is iets vir die oog. Haar swaer? Gewese swaer.

Hy hoef dit gelukkig nooit te weet nie.

Miskien is dit haar verdiende loon dat sy die deur gewys is, want dit

sou tog oneerlik wees om haar as au pair voor te doen en die Du Vos-man
onder die indruk te laat dat sy op sy advertensie gereageer het. ’n Skielike
besef van die komiesheid daarvan laat haar onwillekeurig glimlag. Teen haar
sin moet sy erken dit het seker baie ongeloofwaardig geklink dat ’n doktor in
musiek as gevolg van ’n advertensie vir au pair op sy voorstoep kan beland.
Hoe moet hy ook geweet het sy het die advertensie in haar lewe nooit gesien
nie!

Dit was verkeerd van haar, ja, maar sy houding en optrede was ’n erger
vergryp. Sy wil Abel du Vos tog nooit weer in haar lewe sien nie.
“Ek het geweet jy’s al wakker,” klink ma Marna se vrolike stem toe sy met ’n
skinkbord ingestap kom. Dis ’n jare lange gewoonte om saam met Helette in
haar kamer te kom koffie drink. En lekker te gesels.

“H’m, my kop wil bars,” kreun Helette.

Ma Marna kyk haar ondersoekend aan terwyl sy die koppie koffie aangee.
“Wil jy my nie maar sê wat het jou in so ’n onmoontlike bui hier aangebring
gistermiddag nie?”

Die sagte blou oë wat so bekommerd na haar kyk, stoot die hekkie tussen
hulle oop. In breë trekke skets Helette die toneel wat in Abel du Vos se
studeerkamer afgespeel het. “Ek weet dit was nie reg van my om die
misverstand uit te buit nie, maar kon hy darem nie meer beskaafd teenoor my
wees nie?”

’n Fyn glimlag vorm om haar ma se mondhoeke. “Kan jy jou die man se


dilemma indink?” Haar oë begin vonkel. “Wewenaar, met ’n kleuterdogter en
’n baie belangrike stoel om vol te sit by die universiteit, op soek na iemand
om sy kind op te pas sodat hy op sy werk kan konsentreer. Dit moet hoogs
ongeloofwaardig klink dat iemand met jou kwalifikasies wil kind versorg.
Dalk het die man gedink jy het ’n sielkundige afwyking.”

Gesien deur ma Marna se bril, kan Helette nie anders as om die komiese
daarvan in te sien nie. Sy lag verlig. “Ja, hy het dalk gemeen

om die onstabiele mens so gou as moontlik uit sy huis te kry,” voeg sy by.
“Nogtans wil ek hom nooit weer in my lewe sien nie, ek voel te verneder. Ek
is net spyt dat so baie van my vrae nog onbeantwoord is.”

“Dis dalk beter om die verlede nou met rus te laat, my kind. Jy het darem die
foto van jou eie ma en sy lewe nie meer nie,” troos ma Marna, vat die leë
koppie by haar aan en sit dit op die skinkbord. Haar benerige hande vou om
Helette s’n. “Konsentreer eerder op jou toekoms. Jy kan mos hier bly en
aangaan met jou werk. Jou klavier is hier, jy het jou rekenaar, en die stad is
net ’n halfuur se ry van Vaalbult af. Jy was so lank oorsee, dit sal heerlik
wees om jou hier te hê.”
“Dankie, Moek. Ek gaan wel probeer om ’n deeltydse werk te kry, miskien
die musiekdepartement by die universiteit.”

“En die verlede met rus laat?” dring haar ma by haar aan.

“Ja. Sal probeer. Ek moet net, en onthou, Ma is die enigste ma vir my. My
soektog was net om uit te vind waar my wortels lê, sommer blote
nuuskierigheid,” verseker sy Marna en sien hoe haar ma se gesig verteder.
“’n Soeke na identiteit.”

“Jou identiteit lê in wie jý is. Vergeet van jou genepoel. Jy is besonders nes jy
is,” verseker ma Marna haar.

Potlood in die hand sit Helette voor die klavier op die klawers en tokkel, druk
aan die werk om die melodie in haar kop op die notebalk in die teorieboek
voor haar te noteer. Sy speel die passasie oor en oor tot sy tevrede voel met
die vloei daarvan.

Haar selfoon se luitoon ruk haar uit haar diep konsentrasie en sy kyk gesteurd
op. Dit lê ver van haar af, op die eetkamertafel; sy het glad nie lus om dit te
beantwoord nie. Dit kan maar lui, die persoon kan mos ’n boodskap laat. Sy
klik ergerlik. Haar konsentrasie is verbreek, sy moet haar nou van voor af in
die atmosfeer van die melodie inleef.

Uiteindelik weer besig, toe kompeteer die luitoondeuntjie nog ’n keer

skel met die klavierklanke. Met ’n sug staan sy op, maar ma Marna het haar
voorgespring. Haar ma weet ook al hoe pes sy onderbrekings.

“My dogter is op die oomblik baie besig, kan ek ’n boodskap neem?” hoor sy
dankbaar haar ma se verskoning. “Hou net ’n bietjie aan, ek sal by haar
hoor,” praat sy weer, ietwat onseker en hou die foon na Helette toe uit. “Dis
glo dringend,” fluister Marna.

Met ’n sug neem sy die selfoon. “Helette Boshoff, goeiemôre,”

antwoord sy.

“Môre, doktor Boshoff. Jou ma sê jy is baie besig, maar ek sal jou nie lank
ophou nie, ek moet net dringend met jou praat.”

Die warm stem klink vaag bekend. “Met wie praat ek nou?” Dat mense nie
eens die gewone telefoonetiket ken en hulleself identifiseer nie. Sê nou dis
weer iemand wat iets aan haar wil afsmeer? Sy het al hoeveel sulke oproepe
gekry.

“Abel du Vos, en ek wil net om verskoning vra …”

Sy luister nie verder nie, druk net die gesprek so vinnig as moontlik dood.
Haar hart klop swaar en haar ore suis. Vermetele vent. Sy wens net sy kan die
grys oë en byderwetse kuif so vinnig soos die dooddruk van die selfoon uit
haar gedagtes verban. Vies plak sy die selfoon op die klavier neer.

“En nou?” wil haar ma verbaas weet.

Helette vee haar kuif uit haar oë en sug. “Du Vos. Hy wil nou ewe skielik
met my praat. Natuurlik op my naamkaart gesien wie ek regtig is en besef ek
het die waarheid gepraat.”

“Hy het baie ordentlik geklink, my kind.”

“O, natuurlik sal hy nou ordentlik klink, die jakkals.” Sy byt op haar lip toe
die assosiasie haar tref. “G’n wonder sy van is Du Vos nie,” sê sy en giggel
skielik. “Hy verdien eintlik ’n heks vir ’n au pair.”

“En die arme ou kindjie dan?” bring ma Marna haar soos gewoonlik terug na
die realiteit.

“Goed, ek trek my woorde terug. Geen kind verdien om deur ’n heks

opgepas te word nie.”

Weer begin die selfoondeuntjie speel. Helette kyk na Marna en skud haar
kop. Abel du Vos kan in ’n doringbos gaan spring, sy praat nooit weer ’n
dooie woord met hom nie.

Moedeloos staan sy later op en loop heen en weer in die vertrek.


Haar konsentrasie is verbreek. Kort-kort hoor sy die ryk stem in haar kop, en
hoe sy dit ook al probeer uitwis, dit kom telkens terug. Pes van

’n man om so by haar te spook. Hy het darem die ordentlikheid gehad om


verskoning te vra vir sy wilde aantygings, maan ’n fyn stemmetjie in haar
kop. Ja, maar eers toe hy besef wie sy is. Kan mens hom kwalik neem; hy het
mos nie geweet jy het met ’n ander doel daar opgedaag nie? Ja, moet sy
toegee, sy het sy vergissing misbruik. Maar sy het hom ook jammer gekry, sy
wou hom help met sy kind. Kom nou, Helette, jy het dit as ’n gaping gesien
om meer omtrent Sandria uit te vind.

Sy is vas. Sy het dit baie goed bedoel en is dit dan nie so dat die doel die
middel heilig nie? Hy het rede gehad om kwaad te word, gee sy toe, maar is
dit regtig so vergesog om met ’n doktorsgraad te wil au pair?

Ma Marna het kuiermense. Helette hoor die sagte gedreun van stemme.

Die lae tone van ’n man, afgewissel met haar ma se sagte, musikale stem.

Sedert Abel se oproep die vorige dag sukkel sy met die komposisie waaraan
sy werk. Dis ’n opdragwerk vir ’n ou vriend van haar, nou ’n bekende Suid-
Afrikaanse dirigent, wat iets nuuts en vars soek vir die volgende simfoniese
seisoen. Sy wil hom tog nie teleurstel nie.

Die klop aan haar deur laat haar verlig opkyk, sy kry in elk geval nie
gekonsentreer nie.

“Hier is iemand wat jou graag wil sien, Helette.” Haar ma staan in die deur
met ’n eienaardige glinstering in haar oë.

“Wie’s dit?” fluister sy, bang dat die besoeker haar kan hoor.

“Verrassing. Ek gaan koffiewater kook, gaan kyk jy solank.”

Helette frons. Waarom is ma Marna so geheimsinnig? Die nuus dat sy terug


is, het tog vinnig onder haar ou vriende versprei? Te oordeel na haar ma se
gesigsuitdrukking, moet dit ’n aangename verrassing wees.

Haar hart trommel in haar keel toe sy hom op die rusbank sien sit.
Hy staan vinnig op, sy grys oë op haar gerig en iets soos huiwering in sy
lyftaal. Is dit dieselfde kwaai man van gister? Sy weet nie of sy asemhaal nie,
dit voel nie so nie. Verstar kyk sy na hom. Anders as gister is hy vandag
netjies geklee in ’n roomkleurige langbroek van duursame materiaal, met ’n
bypassende roomkleurige en wit geruite kortmouhemp. Die blonde kuif is
netjies gekam en sy bruin leerskoene blink gepoets. Hy lyk skoon en vars en
baie manlik. Versigtig, waarsku sy haarself toe sy haar reaksie op hom besef.
Onthou net dis ou Ongeskik van gister, herinner sy haarself. Hy lyk nou maar
net ’n bietjie mak. Hy is seker hier om haar verder sleg te sê.

Gedagtig aan die vorige dag se toneel in sy studeerkamer ontlaai die woede
weer. “Wat soek jy hier? Hoe’t jy geweet waar ek is?”

“Doktor Boshoff, ek skuld jou ’n verskoning. Kan ons gesels?” Sy gesig


pleit.

Haar mond is droog, sluk help nie. “Het ons nie klaar gepraat nie?

Ek het niks meer te sê nie.”

’n Paar kreukels verskyn langs sy oë. “Wel, ek het baie vir jou te sê.

Asseblief?”

Waar bly ma Marna? wonder sy paniekerig. Los sy haar nou heeltemal


alleen? Gee hom ten minste ’n kans, praat die stem in haar kop. “Goed, sit en
sê jou sê. Maak net gou, ek het nie baie tyd nie, ek’s besig met my werk.”

Hy sit op die punt van die bank en trommel met sy vingerpunte teen mekaar.
“Wees doodeerlik. Sou jy dit nie ook ongeloofwaardig gevind het as ’n
doktor skielik ’n au pair wil wees nie?”

Hy is reg. Enige regdenkende mens sou dit vreemd gevind het.

“Goed, ek gee toe, dit sal mens tussen die oë slaan, maar moes jy so woedend
word, my so beledig?”

“Ek was kwaad, ja, ek het gedink jy’s ’n kansvatter. Erger nog, dat jy nie al
jou varkies op hok het nie.” Sy oë raak dringender. “Ek sit met

’n yslike dilemma. Die vorige au pair is getroud en my huishoudster is oud en


kan nie behoorlik na Sanja kyk saam met al haar ander verpligtinge nie. Kan
jy nou dink hoe bly ek was om jou by my voordeur te kry, so vinnig ná die
advertensie verskyn het? Was jy regtig op soek na so ’n werk?”

Die vraag hang ’n oomblik in die lug, want dit voel vir haar asof sy met haar
rug teen ’n muur beland het. Integriteit en eerlikheid was nog altyd deel van
haar menswees, maar sy kan tog nie nou met die hele sak patats vorendag
kom nie. Hy sal die waarheid net so ongelooflik vind.

Vertel net die nodige, flits dit deur haar kop. “Nee, ek het nie so ’n werk
gesoek nie, en ek het nie die advertensie gesien nie.”

Sy oë rek onder die opgetrekte wenkbroue. “Nou wat het jy dan daar kom
soek?” vra hy verbaas.

“Inligting.” ’n Halwe waarheid is darem beter as ’n volle leuen.

“Watse inligting, en hoekom het jy nie dadelik so gesê nie?”

Nou klink hy weer na die streng professor. Sy sal haar woorde mooi moet
kies. “Navorsing. Oor die omgewing.” Mag hierdie leuen haar tog vergewe
word. “Ek was in die omgewing en kon seker by enige huis gaan aanklop het,
maar oral het groot kwaai honde geblaf. Jou huis het die veiligste gelyk,
sonder mure en tralies.” Dit is darem die waarheid.

Daar het kwaai honde geblaf en sy sou nie sommer een van daardie ander
erwe betree het nie.

“Ek sien. Toe besluit jy impulsief jy wil au pair?” Die grys kykers pen haar
vas.

“Dit het na ’n tydelike oplossing geklink tot ek werk kry.” Sy blaas haar asem
baie sag uit. Dit is darem ook die waarheid.

“Tydelik. Dan sou ek weer moes soek vir iemand wanneer jy werk kry.”
Is sy nou onder kruisverhoor? “Gelukkig bestaan daar nou nie so ’n
moontlikheid nadat jy my betyds uitgevang het nie. Daar sal wel nog ’n baie
betroubare persoon vir die werk opdaag. Wees net geduldig en hou nog ’n
bietjie uit in jou penarie.”

Die kraaispore om sy oë verdiep en sy mond keep in ’n effense glimlag.


“H’m, ek was bang vir bloedjong meisies wat pas die skoolbanke verlaat het.
Ek was juis bly toe ek sien jy lyk al, jy weet

…”

“Ouer,” help sy hom.

“Ja. Ek het aangeneem omdat jy ouer lyk, het jy seker heelwat ervaring van
kinders oppas.”

Daar sit nogal iets komies in die situasie, moet sy toegee. Ideale stof vir ’n
storie, net jammer sy het nie veel talent in die skryfkuns nie. Sy staan op.
“Dan is dit seker afgehandel. Ek neem jou verskoning aan.

Dit maak dit vir ons albei makliker vir wanneer ons mekaar dalk by
akademiese byeenkomste raakloop.”

“Eintlik het ek nog iets op die hart,” sê hy en staan ook op. “Ek het baie
nagedink. As jy nog belangstel, sal ek jou graag in diens wil neem.”

Dis soos sonbesies wat in haar ore sing. Het sy reg gehoor? “En as ek na ’n
ruk ander werk kry?”

“Dan adverteer ek weer.” Die grys oë wag op ’n antwoord.

“Ek weet niks van kinders af nie,” verweer sy flou.

“Tog wou jy dit gister waag.”

Uit desperaatheid, ja, want in sy huis sou sy tog iets van haar suster te wete
kon kom. Foto’s, hier en daar iets persoonliks wat aan Sandria behoort het,
haar hele persona moet seker nog daar teenwoordig wees.
“Gister was ’n fout,” sê sy uit pure nie weet wat om te antwoord nie.

Want hoe verduidelik sy dit sonder dat die volle waarheid aan die lig

kom?

“Vergeet alles wat ek gister gesê het. Jy sal van groot hulp wees, want ek
moet dikwels onbepaald van die huis af weg wees en dan moet daar iemand
by Sanja wees. Jy sal dus moet inwoon. My kleinboet, wat in die kothuis op
my erf bly, het ook al aangebied om snags in die huis te kom slaap wanneer
ek weg is, maar dis ’n te groot risiko. Hy weet niks van kinders af nie. My
skoonma wil graag na Sanja kyk, maar sy is al bejaard en nie meer gesond
nie.” Sy oë rus hoopvol op haar. “Kan jy jou my dilemma indink?”

Sy knik, maar haar gedagtes is nou aan die broei oor die skoonma.

Sandria se ma … Dit sal ’n kans wees om haar te leer ken. “Bly sy by jou, jou
skoonma?”

Hy skud sy kop. “In haar eie huis. Maar dit sal ook nie meer vir lank kan
wees nie, sy begin geheueprobleme ontwikkel.”

Moet sy of moet sy nie? Dis asof sy meteens tussen twee vure sit. Sy ken
hom nie van adamskant af nie. “Ek kan jou nie nou ’n antwoord gee nie, ek
moet eers daaroor dink,” skerm sy.

Hy hou ’n kaartjie na haar toe uit. “Bel my sodra jy besluit het.”

’n Warm tinteling gloei deur haar toe sy die kaartjie by hom vat en hulle
vingers vlugtig aan mekaar raak. Die gloed stoot tot by haar kroontjie en laat
haar effe lighoofdig voel.

“Jammer ek het so lank gedraai met die koffie, maar ek was besig met ’n
telefoongesprek,” klink ma Marna se vrolike stem skielik in hulle midde toe
sy met ’n skinkbord ingestap kom.

Helette probeer haar ma se oog vang, maar nee, haar ma se aandag is net by
Abel. Sy ken haar ma egter goed genoeg om te weet sy het met voorbedagte
rade so lank weggebly. Sy is darem alte vriendelik met Abel. Gee sy nie eens
om dat die man haar kind so sleg behandel het nie? En Abel is die ene sjarme.
Hy neem dadelik die skinkbord by Marna, wag tot sy sit en bedien haar.

Toe hy by haar buk, is Helette intens bewus van hom. Sy ruik die

sagte suurlemoengeur wat hom omring en sien sy hande lyk goed versorg.
Byna selfbewus skink sy melk by haar koffie en wonder of sy suiker moet
neem, maar besluit daarteen, haar hande voel te bewerig, netnou mors sy dit
in die skinkbord.

Hy lyk so tuis in hulle woonkamer. En om alles te kroon kom krul Noeps


haar salig langs Abel op die bank neer. Toe hy liefderik oor die katlyf streel,
weet sy hy het onherroeplik ’n plek in ma Marna se hart verower.

“Jy sal my moet verskoon, Professor, maar ek het nog heelwat om te doen,”
sê ma Marna toe sy klaar gedrink het en opstaan, “maar kom kuier gerus
weer. Of wag, gee my jou foonnommer, dan bel ek jou een van die dae vir ’n
ete.”

Hieroor gaan haar ma met haar te doen kry, dink Helette wrewelrig.

Besef ma Marna dan nie sy wil die man nooit weer sien nie? Sy gaan nie
Abel se kind vir hom oppas nie.

Soos dit ’n opgevoede gasvrou betaam, stap sy tog saam met hom na sy
motor toe.

“Totsiens, professor Du Vos,” groet sy en steek haar hand uit. Sy hand sluit
stewig en warm om hare en sy doen haar bes om die aangename tinteling te
ignoreer. “Ek het klaar besluit, ek kan jou nie help nie, dus groet ek maar
finaal.”

Hy los nie haar hand nie. “Jy’s te haastig.” Sy warm stem gly oor haar en sy
hoor die teleurstelling daarin, maar hy klink nogtans baie ferm toe hy weer
praat. “Dink eers goed daaroor.”

Hy pleit nie, dit klink eerder na ’n opdrag, en dit gaan teen haar grein. Hy is
natuurlik gewoond aan ’n gesagsposisie. “Ek het klaar gedink, dis finaal.” Is
sy nie nou ’n bietjie kinderagtig nie, te haastig nie? Maar sy skud die gedagte
vinnig af.

’n Stram trek verskyn om sy mond. “As dit jou wens is, hoe kan ek daarteen
stry? Totsiens dan, doktor Boshoff.”

Sonder om weer na haar te kyk, klim hy in sy motor en ry weg.

Sy staar die motor agterna. Hy het hom vererg, dit was duidelik. Met
gemengde gevoelens stap sy die huis binne, onthou dan van die kaartjie wat
hy haar gegee het en gaan kry dit in die woonkamer.

Toe eers sien sy dit. Op die agterkant is ’n klein kleurfoto van hom en ’n
blonde kleuterdogter met grys ogies nes Abel s’n. Sanja. Die kind lag
oopmond sodat die haasbekkie sigbaar is.

’n Swaar gevoel kom lê in haar binneste. As Sandria nog gelewe het, sou dit
nie dalk haar wens wees dat haar suster na haar kind moet omsien indien sy
iets oorkom nie?

Weer sit sy tussen twee vure.

DRIE

Vir ’n tweede keer staan sy voor Leliestraat 10. Hierdie keer sonder enige
illusie. Sy het nie vooraf gebel nie, maar wou persoonlik kom praat. ’n Paar
honde agter gietysterhekke, wat nie genoeë neem met die vreemdeling in
hulle buurt nie, kompeteer watter een die hardste kan blaf. Die skel gekef van
skoothondjies wat ook van hulle laat hoor, sluit gou aan by die hondekoor.
Die somerson piets vroegoggend al fel.

Vandag swaai die deur baie gou oop nadat sy die klokkie gedruk het, en ’n
waardige vrou in haar middeljare kyk haar op en af. “Ons soek niks te koop
nie, dankie,” sê sy ferm en begin die deur toemaak.

“Wag,” pleit Helette vinnig, “ek is hier om die professor te sien.”


Gelukkig gaan die deur weer oop. Die vrou lyk steeds wantrouig.

“Hy’s nie hier nie, hy het gaan werk.” ’n Diep frons keep tussen die vrou se
wenkbroue en sy waai ’n geel stoflap dat dit soos ’n vlag in die wind wapper.
“Hy gaan heeldag weg wees.”

Helette nies. Besef die vrou nie die lap is vol stof nie? Sy retireer effe. “En
Sanja, is sy hier?” Dalk kry sy darem die kind te sien.

“O, jy ken haar?” klink dit verbaas. Toe skud sy haar grys kop heen en weer
en lyk heelwat vriendeliker. “Sy is saam met haar pa. Ek kan nie nog kind
ook oppas nie, die huis is groot, die werk te veel.”

Dis nou ’n teleurstelling, dink Helette bedruk en wonder terselfdertyd hoe die
man met sy lesings en administrasie regkom met Sanja by hom. Seker maar
moeilik. Hy het beslis iemand nodig om hom met sy dogter te help. “Dankie,
ek sal op ’n ander keer weer kom.”

En nou? wonder sy toe sy in haar motor klim.

Byna werktuiglik kry sy koers universiteit toe. Om wat te gaan

maak? koggel haar kop. Dalk is hy nie te besig nie en kan sy hom tog spreek,
verdedig sy.

Daar is net een professor Du Vos, verneem sy van die klerk wat haar by die
administrasiegebou help. Nou ja, dit maak sin, dink sy terwyl die klerk haar
na sy kantoorgebou beduie. Du Vos is tog ongewoon, gewoonlik is dit De
Vos.

Hy is nie in sy kantoor nie. Besluiteloos staan sy in die gang. En nou? Hier is


ook geen teken van ’n kind in die nabyheid nie. Miskien is hy in ’n
lesingsaal, of in ’n vergadering. Dit moet seker al eksamentyd vir die
studente wees, val dit haar by.

“Kan jy my dalk sê waar ek professor Du Vos in die hande kan kry?” vra sy
’n student by die ingang van die gebou. Die meisie kyk haar op en af en
Helette raai sommer wat in haar gedagtes aangaan.
Dink seker sy is ook een van die vele bewonderaars.

“Ek dink hy gee nou klas. So ’n laaste preek voor die eksamen. Die beste is
om maar hier vir hom te wag.” Sy beduie na een van die vele banke onder die
koeltebome.

Sy was lank laas hier, besef sy toe sy gaan sit. Dankie tog vir koeltebome, die
somerson brand al die vog uit ’n mens uit. Die grasperk is seker vroegoggend
gesny, want die reuk van vars gesnyde gras hang skerp in die lug. Sy verkyk
haar aan die vrolike studente wat al geselsende ronddrentel. Dit is darem
werklik ’n sorgvrye tyd in mens se lewe; jou grootste bekommernis is of jy
die eindeksamen gaan deurkom.

Toe val haar oog op ’n damestudent ’n entjie verder wat met gekruiste bene
plat op die grasperk sit met ’n kleuterdogtertjie by haar.

Dis die kind agter op die naamkaart, sien sy onmiddellik. Sanja.

Gefassineerd sit sy en kyk, staan later op en stap daarheen. “Môre, Sanja,”


groet sy en sak op haar hurke voor die kind neer.

“Wie’s jy?” Twee grys oë kyk haar wantrouig aan en sy skuif nader aan die
student, wat haar dadelik op die skoot tel en vertroostend vashou.

Haar pa het haar seker goed gewaarsku teen vreemdelinge. “Ek weet jy ken
my nie, maar ek ken jou pappa.” Wat ’n simpel stelling, sê sy vir haarself,
hoe moet dit nou vir Sanja en die student oortuig dat sy geen verkeerde
bedoelings het nie?

“Prof gaan binne oomblikke hier wees,” sê die student. “Ek kyk na Sanja tot
hy kom. Is daar iets waarmee ek intussen kan help?”

Helette glimlag. Mooi maniere het gelukkig nog nie onder alle jongmense
uitgesterf nie. “Nee, dankie, ek sal wag.” Stadig drentel sy terug en gaan sit
weer op die bank. Gelukkig het Sanja darem nie te veel vir haar geskrik nie,
want haar skaterlag klink weer spontaan en helder in die oopte.

Abel du Vos en sy is immers laas nie op ’n goeie voet uit mekaar nie.
Wat gaan sy reaksie wees wanneer hy haar weer sien? Wel, dis nou maar
eenmaal hoe sy is, bereid om te erken as sy verkeerd was. Sy sal om
verskoning vra. As hy dit nie aanvaar nie, kan sy haar lewe met ’n skoon
gewete hervat.

Uit een van die geboue begin studente stroom soos miere uit hul nes, of
eerder ’n klomp bye, hulle stemme klink behoorlik na ’n gezoem.

“Pappa!” klink die kinderstem en Helette sien hoe die kind na die massa toe
hardloop. Sy het seker haar pa tussen die menigte geëien.

Helette herken dadelik die lang gestalte met die blonde kuif waar hy al
geselsende saam met ’n paar studente aangeloop kom. Toe hy Sanja gewaar,
buk hy en hou sy arms wyd oop om haar te vang. Hy swaai haar hoog in die
lug, al in die rondte sodat sy kraai van plesier en stap met haar op die arm na
die student, wat intussen orent gekom het.

Helette merk dat hulle diep in gesprek is. Hulle praat oor haar, besef sy toe
Sanja met ’n uitgestrekte arm en wysvinger na haar hier op die bank wys. Toe
draai die student om en kry koers oor die grasperk in

die kafeteria se rigting.

Met lang treë kom Abel na haar toe, Sanja steeds op die arm.

“Waaraan het ek dié eer te danke?” wil hy sonder omhaal weet, sit Sanja neer
en maak hom tuis langs haar. Sanja raak dadelik geïnteresseerd in ’n paar
miere in die gras. “Ek verneem jy wil my spreek?”

Sy moet dit seker verwag het, hy klink formeel en streng, pure professor. Hy
is seker nog die josie in vir haar. Wel, hy moet net weet sy is nie een van sy
studente nie. Sy lig haar ken en kyk hom vas in die oë. Sy was nog nooit een
vir doekies omdraai nie, altyd reguit en op die man af. “Ek sal kom au pair, as
jy nog nie iemand gekry het nie.” Dis uit. Nou moet hy maar hiermee maak
wat hy wil.

Hy frons. “Wat het jou so skielik van besluit laat verander?”


Sy sal maar weer die waarheid vir hom uithang, dis tog die beste, dink sy.
“Die foto agter op jou naamkaart. Toe ek jou kind sien … sy’s nog so klein
om sonder ’n ma te wees. Sy het ’n vrou nodig om na haar te kyk.”

“Dis mos presies waarom ek iemand gesoek het. Iemand betroubaar,” hervat
hy, “om in te staan vir wanneer ek nie by haar kan wees nie. Maar sê my,” en
sy oë vernou, “is dit nou net pure jammerte, of wil jy dit regtig doen?” Sy oë
lyk grou, soos onweerswolke.

Deernis oorval haar skielik. Die ruk ná Sandria se dood kon nie vir hom
maklik gewees het nie. Het hy haar baie liefgehad? Verlang hy nog na haar?
Mis hy haar? “Ek sal jok as ek sê ek voel nie jammer vir Sanja nie,”
antwoord sy weer reguit. En vir jou, sê sy sag in haar binneste. “Ja, ek wil dit
doen.”

Sy wens sy kan weet wat hy dink as hy so ernstig na haar kyk. Word sy


geweeg?

“Daar het intussen al twee dames gereageer op die advertensie,” sê hy stadig,


asof hy terselfdertyd diep dink. “Ek het vanmiddag met hulle onderhoude.
Daarna sal ek jou laat weet wat ek besluit het.”

Helette kan nie verstaan waarom sy skielik so teleurgesteld is toe hy groet en


omdraai nie. Sy kyk hom agterna terwyl hy met Sanja wegstap, sy gang
ritmies en ontspanne. ’n Man wat tuis is in sy eie vel.

’n Man wat die web wat sy deur die jare om haarself gespan het, begin
binnedring. ’n Man wat dit regkry om haar pols te versnel.

Maar hy slaan ook ’n eensame figuur. ’n Man wat sy drag slae in die lewe
gekry het.

Dan kom vou die wete soos ’n sagte mantel om haar: Haar biologiese wortels
is nie meer die enigste rede waarom sy Abel du Vos uit sy penarie wil help
nie.

Oppas, Helette, gryp haar rede skielik in. Onthou destyds se seerkry met
Chris.
Chris, haar jeugliefde. Verras besef sy dat sy sukkel om sy beeld voor oë te
roep. Haar hart was destyds gebreek toe hy hulle verhouding op universiteit
verbreek het omdat hy ’n nuwe liefde gevind het. Sy het lank aan die seer
gedra. Wou nie, kon nie weer vertrou nie. Een verhouding na die ander het
gevolg, maar sonder diepte. Een na die ander het gesneuwel.

En nou het Abel du Vos haar pad gekruis en sy staan eensklaps by

’n kruispad. Moet sy haar blootstel aan die moontlikheid om weer seer te


kry?

Nee, skryn dit in haar. Sy is nog baas van haar hart. En sy moet waak
daarteen om nou soos ’n jongmeisie op te tree. Daar is genoeg van hulle om
Abel se ego te streel.

Die man is gevaarlik aantreklik, maar sy kan dit hanteer. Die fladdering om
haar hart is net ’n doodnatuurlike reaksie. Dit sal wel vanself verdwyn as sy
hom meer dikwels sien.

VIER

Helette sukkel om in die hitte te konsentreer. Die waaier is op volle sterkte.


Om die hitte te oorleef, het sy vandag ’n geel einakortbroek en

’n geel toppie met spaghettibandjies aan. Uit gewoonte loop sy kaalvoet in


die huis. En steeds voel dit asof die hitte haar wurg.

’n Volle twee dae het al verloop sedert sy vir Abel by die universiteit gaan
spreek het. Sou een van die twee ander kandidate dalk die paal gehaal het?
Maar hy het tog gesê hy sal laat weet en sy het hom vanaf hulle eerste
ontmoeting as ’n man van sy woord opgesom. Of was sy verkeerd? In daardie
geval sal dit net bewys dat hy maar nes al die ander mans is wat al haar pad
gekruis het. Sy kou haar onderlip ingedagte. Hoe gouer sy van hom vergeet
en met haar werk aangaan, hoe beter. Buitendien is hy ’n wewenaar wat nog
treur oor sy oorlede vrou. Streng gesproke is hy haar swaer.
Kom nou, Helette, keer sy haar wegholgedagtes, mens sal sweer jy is verlief
op die vent. Jy ken hom dan skaars. Maar hy is iets vir die oog, kielie die
binnestemmetjie. Dis tog doodnatuurlik om te kyk, kom haar nugter denke tot
haar redding.

Die huis is doodstil. Ma Marna het gaan help by die kerk se worsprojek en sal
eers laatmiddag terug wees. Honger laat haar met ’n sug opstaan en kombuis
toe gaan. Haar ma bederf haar met die etes, sy gaan sit gewoonlik net aan en
smul. Vandag moet sy vir haarself sorg.

Die yskas lewer gelukkig nog van die vorige aand se frikkadelle en
tamatieslaai op. Ingenome smeer sy ook vir haar brood met grondboonbotter
en gouestroop en skink ’n glas melk. Daar’s hy, ’n volle ete. Noeps skuur
miaauend teen haar kuite toe sy haar by die kombuistafel tuis maak.
Natuurlik ook honger, arme ding.

“Kom, Noeps, hier’s vir jou melk,” roep sy agterstoep toe en gooi ’n bietjie
melk in ’n piering. Sou klein Sanja ooit ’n troeteldier hê? kom dit skielik by
haar op.

Gesteurd hoor sy die voordeurklokkie lui. Ma Marna het haar gewaarsku dat
as van die worsspeserye opraak, sy sommer iemand huis toe sal stuur om van
haar eie te kom kry. Dis dan seker nou sulke tyd.

Die voordeur staan oop, slegs die veiligheidsdeur is gesluit en sy steek


vervaard vas toe sy sien wie dit is. Sy kan nie eens omdraai nie, hy het haar
klaar gesien, en nogal in hierdie klere. O wel, in jou eie huis kan mens seker
mos loop soos jy wil. Tog voel dit na ’n yslike verleentheid dat Abel haar só
moet sien.

Sy oë gly vlugtig oor haar en sy kan sien hy neem die volle prentjie in. “Ek
hoop nie dis baie ongeleë nie, maar ek het my etensuur gebruik om hierheen
te kom. Het jy tyd om te gesels? Ek sal gou wees.”

Ryk en warm soos geklopte room klink sy stem. Vinnig sluit sy oop.

“Kom maar binne, stap sommer woonkamer toe, jy weet mos waar dit is.” Sy
talm ’n oomblik met die sluit van die deur sodat sy nie voor hom hoef te loop
nie, maar hy wag geduldig vir haar en volg haar dan woonkamer toe. Nou
goed, kyk maar jou kyke, dink sy ongeërg, te sleg kan sy seker ook nie lyk
nie. Belangriker is waarom hy hier is, nadat sy twee dae lank niks gehoor het
nie. Die twee onderhoude is sekerlik lankal afgehandel.

“Sit gerus,” nooi sy en neem self plaas op een van die bont
tapisserieleunstoele, kruis haar enkels en hou haar knieë netjies bymekaar,
baie bewus van haar kaal bene. Dis mos hoe ’n dame behoort te sit.

“Jy het seker nie vir die lekker hierheen gekom nie?” tuimel dit sommer oor
haar lippe. Sjoe, dis darem baie direk, besef sy terselfdertyd, maar dis nou
eenmaal hoe sy is.

“Nee,” sê hy kopskuddend, “ek het kom besigheid praat. Ek wil

weet of jy nog geïnteresseerd is om na Sanja te kom omsien. Indien wel, sal


ek graag van jou dienste gebruik wil maak.” Hy kyk vraend na haar.

Sy sit regop. “En die ander twee kandidate?” vra sy reguit.

’n Fyn glimlag kruip om sy mond en hy skud weer kop. “Te jonk.

Hopeloos te jonk vir so ’n groot verantwoordelikheid.”

Ook hierin het sy hom reg opgesom. Hy sal nie sommer enigeen na sy kind
laat kyk nie. Sy moet dan seker gevlei voel dat hy haar blykbaar geskik ag.
“En jy reken ek sal die verantwoordelikheid kan dra?”

’n Effense kleur stoot in sy nek op en Helette besef dat dit dalk ietwat
sarkasties kon klink.

Sy grys oë glim. “Ek is seker daarvan. Jy is tog ouer en moes al heelwat


verantwoordelikhede dra om te kon kom waar jy is met jou studie.”

“Waarom dan twee dae wag voor jy kom?” Onmiddellik kan sy haar tong
afbyt. Hier verraai sy nou mooitjies dat sy gewag het dat hy kom.

“Dit was nogal twee moeilike dae.” Hy vryf sy ken nadenkend. “My
skoonma. Ek moes haar by die dokter kry en haar ook help met banksake wat
sy nie mooi begryp nie. Dit het baie tyd in beslag geneem. En baie geduld
geverg.”

“En gaan dit nou beter?”

Hy knik. “Onder omstandighede, ja. Sy dring net daarop aan dat Sanja bedags
by haar moet kom bly, maar ek kan nie daardie kans waag nie.”

“Natuurlik nie,” stem sy saam. “Goed, ek sal dit doen.”

Die verligting wat oor sy gesig sprei, laat hom sommer jonger lyk.

“Dankie. Ek het ’n werksooreenkoms en ’n pligstaat opgestel. Kyk gerus


daarna en praat as daar onduidelikheid of onredelikheid in voorkom. Parafeer
elke bladsy en teken op die laaste as jy tevrede is.”

Sy vat die plat lêer wat hy uithou. “Sommer nou?”

“Sommer nou,” beaam hy.

Helette se oë rek toe sy begin lees. Met die gratis inwoning lyk die
vergoeding baie aanloklik. Sy het nie ’n idee wat die minimum of maksimum
salaris vir ’n au pair is nie, maar sy het so ’n vermoede dat die bedrag hier
vermeld hoër as die normale is. Verder is sy slegs namiddae en saans aan
diens, met ’n kinderoppasser om te help.

Soggens is Sanja in die kleuterskool en naweke sal haar pa self na haar kyk.
Sy gaan oorgenoeg tyd hê vir haar eie werk. Naweke sal sy vir ma Marna kan
kom kuier. Dis alles te goed om waar te wees.

Voor sy teken, maak sy eers doodseker al is dit duidelik swart op wit hier
voor haar. “Die salaris … ek vermoed dis baie meer as wat ’n au pair
gewoonlik verdien?”

Hy vryf deur sy kuif en lyk ietwat ongemaklik. “Ek glo nie mens krap ’n au
pair met ’n doktorsgraad agter elke bos uit nie.”

Met ’n fladdering in haar binneste luister sy na sy stem. Diep en ryk en rustig.


’n Stem so klankryk dat sy dit tussen ’n menigte ander sal kan uitken.
Droomverlore sit sy en dink aan wat die toekoms alles kan inhou.

“Gaan jy nie teken nie?”

Asof uit ’n newel kom sy terug hede toe. “Natuurlik, ja. Ek het sommer aan
’n paar dinge gedink,” omseil sy die ware rede vir haar gedroom en teken die
dokument. “Wanneer moet ek begin?”

“So gou as moontlik. Môre, oormôre.”

Sy eerste aanduiding was “so gou as moontlik”, wat seker impliseer dit is wat
hy graag sal wil hê. “Goed, ek kom môremiddag.”

Met ’n breë glimlag staan hy op. “Jy kan nie dink wat ’n geweldige las is van
my skouers af nie. Baie dankie, doktor Boshoff.”

“Helette, asseblief.”

“En ek is Abel.”

Sy knik instemmend, maar vertrou nie haar stem om iets verder te sê nie,
veral nie sy naam nie.

Toe hy weg is, is haar kop ’n warboel en sy weet sy sal nou niks uitgerig kry
nie, sy is hopeloos te opgewonde. Om in Sandria se huis te woon sal soos ’n
troosprys voel en effe vergoed vir die verlies van al die jare sonder haar
sussie. Iets van Sandria se persoonlikheid moet tog nog die ruimtes daar vul.
Haar stempel sal nog afgedruk wees op elke vertrek. Sy sal meer te wete kan
kom van haar suster en persoonlikheid.

Al het haar soektog feitlik op niks uitgeloop nie, het sy tog iets gevind wat dit
wel die moeite werd maak.

En iemand, onthou sy: Sanja.

VYF
Toe sy stilhou, kom Abel uitgestap, kaalvoet en kortbroek met ’n T-hemp.
Mooi kuite en enkels, merk sy. Sy moet dit eintlik kon gedink het, dit sal tog
pas by daardie gesig en lyf.

Haar gesig word warm. Dankie tog hy kan nie gedagtes lees nie, dink sy toe
hy by haar kom.

“Welkom, Helette. Laat ek jou help met jou bagasie.”

Die gemaklike manier waarop hy haar naam sê, laat haar tuis voel.

“Middag, Abel,” antwoord sy spontaan. “Ja dankie, ek maak net die


bagasiebak oop.”

“Kom saam, dan wys ek jou waar jy tuisgaan,” nooi Abel.

“Verskoon dat ek voor loop.”

Sy volg hom in die gang af tot by ’n deur aan die verste punt.

“Dis lekker privaat en ver van die res van die huishouding. Jy behoort hier
sonder steurnis te kan werk.” Hy maak die deur oop en staan terug sodat sy
kan instap.

Asof in ’n droom stap sy ’n intieme sitkamertjie binne en gaan verras staan.


’n Rusbank, twee leunstoele en ’n koffietafel is al ameublement, maar vir
haar is dit oorgenoeg.

“Jy gaan darem nie hier slaap nie. Loop gerus verder deur.”

In die slaapkamer is ’n dubbelbed, spieëlkas en ingeboude klerekaste. Sy kan


haar oë nie glo nie. Sy het ’n enkele slaapkamer verwag en hier het sy sowaar
’n klein woonstel met ’n kombuisie en ’n luukse badkamer.

“Jy eet saam met ons. Hierdie is sommer net vir wanneer jy lus het om te bak
en brou of dalk nie vir ons ander lus het nie,” wys hy na die minikombuis.

“Wonderlik. Ek sal so af en toe vir my vegetariese geregte berei.”


Hy kyk haar skuins aan. “Is jy dan ’n vegetariër?”

“O nee, ek eet net af en toe vegetaries, want dis gesond. Jy sal nog agterkom
ek is ’n gesondheidsfanatikus. Het jy ’n groentetuin hier?”

Die verbasing op sy gesig is byna komies. “Nee, ek koop by die supermark,


dis tog maklik genoeg.”

“Dan is daar nog baie te skaaf aan jou opvoeding. Sal jy omgee as ek een aan
die gang probeer kry?” O jinne, voortvarend soos altyd, skrik sy. Skaars hier
of sy begin inmeng.

Stadig plooi ’n glimlag om sy mond. “Glad nie, my tuinman kan jou help.
Lyk my die Du Vosse gaan van nou af gesond eet.”

Sy moet sê, hy is vandag heel toegeeflik en vriendelik, en dit pas hom


uitstekend. Miskien is dit omdat sy spanning oor ’n au pair verby is. “Ek kan
julle natuurlik nie dwing nie, maar as dit van my afhang, is gesonde etes julle
voorland,” skerts sy saam.

“Kom, hier is nog ’n vertrek wat jy moet sien,” laat hy byna geheimsinnig
hoor.

Voor ’n toe deur aan die verste punt van die woonstel gaan Abel staan. “Dit
is die eintlike verrassing.” Sy grys oë glinster nou weer vrolik terwyl hy die
deur oopmaak dat sy kan ingaan. “Stap gerus in.”

Sy beweeg ’n tree of wat vorentoe en staan dan net sprakeloos en staar. Dit
het sy in haar wildste drome nooit kon dink nie. Toe skiet haar oë vol trane.
Sy skud haar kop. “Dis die verrassing van my lewe,”

fluister sy en weet dat hierdie man se karakter sy ware magnetisme is.

Hier voor haar is ’n volledig toegeruste ateljee met alles wat sy nodig sal hê.
Van klavier tot potloodskerpmaker. Dit vergelyk enige tyd goed met wat sy
tydens haar nagraadse studie tot haar beskikking gehad het.

Sy bly met haar rug na hom toe staan, sy wil nie hê hy moet die trane sien
nie. “Baie dankie,” kry sy dit gesmoord uit, “dit oortref al my verwagtinge.
Hoekom het jy soveel moeite gedoen?”

Hy moet iets in haar stem gehoor het, want hy vat haar aan die

skouers en draai haar na hom toe. “En die trane nou?”

“Omdat alles net te wonderlik is. Dit voel asof ek nou-nou gaan wakker word
en agterkom ek het net gedroom.”

Hy lag verlig en trek haar onverwags teen hom vas. “Sjoe, ek het net gedink
daar is iets verkeerd. Julle vroumense darem …”

Vir Helette voel dit asof sy kwalik asemhaal. Hier staan sy in die arms van ’n
so te sê wildvreemde man en voel sy hartklop teen haar lyf. Of is dit haar hart
wat so tamboer? Dalk is dit albei se harte wat harmonieus saam bons. Die
ritme van ’n groot simfonie, kom dit by haar op. En wat ’n verrassing …
Skielik openbaar Abel ’n heel ander kant van sy persoonlikheid. Dis dan
seker die man wat Sandria geken het, warm, spontaan en liefderik. ’n Vae
gedagte draal by haar: Dis die soort man wat sy sal kan liefkry. Verleë oor
die gedagte, beur sy haar los en vee oor haar nat wange.

“Tsk, tsk,” klik hy, sy hand op haar skouer, en vee haar oë met ’n groot wit
sakdoek af. “Is jy nou bly jy het toe gekom?”

Sy knik. “Ek is. Baie dankie vir die moeite om die plek so mooi in te rig.”

Hy los haar skouer en druk die sakdoek in sy broeksak. “Sandria het die
woonstel destyds vir haar ma ingerig, maar Vera wou nie kopgee om hier te
kom bly nie. Ek het net die klavier en ander toebehore hier aangebring. Die
jare loop so vinnig, voor ek my oë uitvee, is Sanja groot genoeg om dit te
gebruik,” verduidelik hy weer ernstig.

Toemaar, ek kry die boodskap, rasionaliseer Helette. Eintlik bedoel hy sy


moenie dink dis spesiaal net vir haar so ingerig nie.

“A ha.” Die jongman voor haar se sagte kaneelbruin oë gly tydsaam oor haar
en toe glimlag hy ingenome. “Jy is seker Sanja se nuwe au pair. Frank du
Vos, tot jou diens.” Sy oë vonkel vrolik en hy buig verspot voor haar.
Sy kyk verras na hom. Dan is dit Abel se kleinboet. Hy het dieselfde lengte
en bou as Abel, maar verder verskil hulle soos sout en peper.

Waar Abel blond is, is Frank se hare byna dieselfde kaneelbruin as sy oë. Tog
het hy en Abel dieselfde smaak wat naskeermiddels betref.

Suurlemoen, die geur omring hom subtiel.

Hy kyk onnutsig na haar. “En jou naam is?”

“Helette Boshoff.” Sy bestudeer hom vlugtig. ’n Regte platjie, iemand vir die
vrolike dinge van die lewe. Maar nou ja, sy ouboet Abel het seker ingestaan
vir die verantwoordelikhede van die lewe. En Frank kon sorgeloos opgroei en
’n vroliker geaardheid ontwikkel. Daar is mos altyd ’n rede vir alles. Net soos
daar ’n rede is vir haar ongetroude status. Het sy dan nie ná haar groot
teleurstelling bly wegskram van ernstiger verhoudings nie, met “miskien
eendag, as ek op die bopunt van die leer is” as verskoning? “Abel het my van
jou vertel,” sê sy en merk die vinnige blos teen sy nek op. Seker bang sy
ouboet het ’n paar dinge uit sy kas uitgelap.

“O so,” sê hy tuitmond, “ou Abel het dit sy plig geag om jou teen my te
waarsku.” Hy lag ligweg. “Wens ek kan weet wat het hy geskinder.

Ek sal dit vinnig moet regstel. My ouboet reken ek is te ligsinnig, maar ag, ek
moet die ligkant van die lewe sommer vir dié ou se part ook leef.

Hy dra die hele wêreld op sy rug. Seker met rede, die ou lewe het hom al hard
gemoker, daarom dat ek so vrolik moontlik probeer bly.” Sy oë terg. “En hy
wil die hele wêreld probeer regruk. Nie verniet prof in omgewingsbestuur en
-ontwikkeling nie. Breek homself omtrent oor natuurbewaring en gly van die
een kongres na die ander om die aardbol te probeer red.”

Verras kyk Helette na Frank. Dit klink asof hy verstaan waarom Abel is soos
hy is. Hy motiveer dit boonop. En al sou hy dit dalk ontken, loop hy oor van
trots op Abel en is lief vir hom. Miskien is sy onverskilligheid net bolangs.
Sy hou van Frank, besluit sy. Hy gaan beslis ’n ligpunt in haar lewe in hierdie
huis wees, ’n vrolike vriend.
“Ek sien jy en Frank het al ontmoet,” sê Abel verras toe hy by hulle aansluit.
“Is jy al gevestig in die woonstel, Helette?”

“O ja, dankie.”

“Moenie jou kwel oor my goeie maniere nie, ek het my behoorlik aan die
jonge dame voorgestel, Ouboet,” kom dit skalks van Frank. “En ek was net
op die punt om my dienste as ridder en beskermheer aan te bied. Ek’s bereid
om die skone dame oral waar sy beskerming gaan nodig hê te vergesel.”

Vir ’n oomblik lyk dit asof Abel hom wil vererg, dan glimlag hy net skeef.
“Helette, jy moet hierdie kleinboet van my verskoon. Hy’s maar so gemaak
en gelaat staan.”

“Ha, ha,” lag Frank. “Jy het mos genoeg erns vir ons albei, boet Abel.” Hy
knipoog vir Helette, snuif diep en vryf oor sy maag. “Eintlik het die kosgeure
uit die kombuis my die huis in gelok. Wat is die lewe nou ook sonder spys en
drank.”

Abel gee Frank ’n moedelose kyk, skud sy kop en neem Helette aan die arm.
“Kom ons gaan sit aan, die kos is gereed.”

Boerekos, hoe lekker, sien sy toe Abel die opskepskottels se deksels afhaal.
Skaapskenkels met spierwit rys, boontjiebredie en gebraaide pampoen. Sy
moet sê, hierdie kos pas by Abel, dis stewig en vullend.

Sy kon netsowel nou by ma Marna aan tafel gesit het, dink sy vol heimwee
toe sy begin eet, dit smaak nes haar ma se kos. Dit moet seker maar eensaam
voel vir haar ma vanaand, weer soos die tyd toe sy in Europa gebly het. Sy
sal haar sommer netnou na ete bel en hoor hoe dit gaan.

Vir ’n oomblik is dit doodstil aan tafel. Die twee mans eet smaaklik.

Daar is beslis niks verkeerd met hulle eetlus nie. Sy wonder wat doen Frank
vir ’n lewe. Hy het seker nie veel spanning by sy werk nie, daarvoor lyk hy te
vrolik. Abel se werk by die universiteit behoort ook nie baie stresvol te wees
nie, maar sy betrokkenheid by bewaringsake kan dalk soms ’n kookpot raak.
Hy lyk op die oomblik weer so effens
stug met die frons diep tussen sy oë en sy gedagtes duidelik ver van hier.
Dankbaar luister sy na Frank se vrolike geskerts. Hy verorber sy bord kos
met spoed en skep weer. Soos Abel, is ook hy baie netjies op sy persoon.
Buiten geld, het die twee Du Vos-broers sekerlik ’n baie goeie opvoeding
gehad.

“Waar is jou dogter, Abel?” vra sy in ’n poging om hom aan die praat te kry.

Hy vou sy vingers inmekaar en sit ’n oomblik ingedagte. “By Vera,”

antwoord hy halfafwesig. “Ek gaan haar netnou haal.”

Afgehaal frommel Helette haar servet op haar skoot. Sy antwoord klink


darem baie kortaf. Sy het mos net uit belangstelling gevra. As hy bekommerd
is omdat sy kind by sy skoonma is, kan hy nogtans vriendelik wees. Sy lig
haar ken trots en sluit haar lippe ferm opmekaar. Haar oog vang Frank s’n.
Hy sê nie ’n woord nie, maar aan die trek om sy mond kan sy sien hy
verstaan ook nie Abel se afsydigheid nie.

“Helette, verskoon maar vir Ouboet, hy is só wanneer hy oor dinge broei. Jy


kan bly wees hy het jou darem nog geantwoord. Vir my ignoreer hy sommer
net.”

“Frank!” Abel se stem klink kil en sy oë boor in Frank s’n. “Jou kommentaar
is oorbodig.”

“Ag, nee man, Ouboet, Helette is ’n gas hier in jou huis. Jy kan ten minste
aangenamer wees. Ek kan nie my smoel sit en hou terwyl jy keiser Nero speel
nie.”

Soos twee boerboele wat vir mekaar sit en grom, dink Helette.

“Toemaar, Frank, ek is darem nie weerloos nie,” tree sy tussenbeide,

“en eintlik is ek nie ’n gas nie.” Sy loer versigtig na Abel voor sy verder
praat. “Ek is net ’n werknemer, onthou.”

“Kom ons los dit nou net daar, asseblief.” Abel se stem waarsku dat hy
genoeg het van die gesprek. “Maar goed,” hy vou sy hande inmekaar, “as
julle dan moet weet, ek’s bekommerd oor Sanja. Al is

Helette nou hier, gaan Vera nog steeds neul dat Sanja by haar moet gaan
kuier en ek kan dit nie langer toelaat nie. Vera is nie meer in staat tot baie
nugter denke nie. En sy kan ook nie verder alleen in haar huis bly nie. Sy
raak al hoe vergeetagtiger en vang die snaaksste goed aan.

Ek voel steeds verantwoordelik vir haar, sy bly my skoonma, al leef Sandria


nie meer nie. Sy sal óf hier moet kom bly met iemand wat haar hier kan
versorg, óf in ’n versorgingsoord. En hoe de joos dink julle gaan ek haar
daarvan oortuig?”

Dit is voorwaar prysenswaardig dat Abel hom oor sy skoonma bekommer.


“Dit klink na ’n tameletjie,” stem Helette saam.

Terwyl hy haar deurdringend aankyk, kruip daar ’n stadige glimlag om sy


mondhoeke. “Jammer vir die ongeselligheid. Hoe kon julle nou ook raai
waaroor ek sit en tob? Ek wou julle net nie met my probleme opsaal nie.”

“Heng, ekskuus, man. Dit is nogal erg, ja. En dis nou maar weer jy wat moet
opsnork.”

Abel glimlag in Frank se rigting. “Dis my skoonma, nè. Toemaar, my rug sal
darem nie daarvan breek nie.”

Frank knipoog vir sy broer. “Abba ook altyd almal.”

Verwonderd kyk Helette na die twee broers. Daar is ’n sterk band tussen die
twee, al verskil hul geaardhede soos dag by nag. Dit moet wonderlik wees om
’n broer of suster te hê. Al was pa Paul en ma Marna die dierbaarste ouers,
was sy tog soms baie alleen en het sy haar vriendinne hul groot huisgesinne
beny. Sy sluk aan die skielike knop in haar keel. Die sagopoeding bring troos
in haar hart en byna trane in haar oë. Dis haar gunsteling. Sy het nie geweet
daar is nog iemand wat dit so lekker kan maak soos haar ma nie.

“Dra tog asseblief my komplimente aan die kok oor, die ete was feestelik,” sê
sy vir Abel toe hulle van die tafel opstaan. Sy kyk hom waterpas in die oë.
“Kom saam kombuis toe, dan sê jy dit self vir die kok.” Hy kyk

iewers teen die plafon vas terwyl hy praat.

Waarom vermy hy nou skielik haar oë? Al was die kos baie lekker, het sy nie
regtig lus om nou met die kok te gaan praat nie. Sy sal veel eerder so gou
moontlik in haar woonstel wil kom, onder die twee mans se oë uit. Die
poeding het haar na ma Marna laat verlang, sy wil haar gaan bel.

Traag volg sy hom.

In die kombuis voel dit meteens of haar wêreld kantel. Hallusineer sy dalk?
Na die eerste skok besef sy dis geen hersenskim nie. Dis …

sowaar, dit ís …

“Moek!” gil sy en hardloop in Marna se arms in. Sy ruik die bekende laventel
terwyl Marna haar styf vashou. Trane spring in haar oë.

“Letjie, my skat, hoekom so hartseer?” vra sy. “Jy’s dan net vanoggend by
die huis weg.”

“Ma se kos het my laat verlang. Ek het net besef hoe vreeslik lief ek Ma het.”

Skielik is dit net hulle twee alleen in die groot kombuis. Bedagsaam van Abel
om hulle alleen te los, dink Helette dankbaar. So dis waarom hy haar nie
lekker in die oë kon kyk toe hy haar kombuis toe genooi het nie.

“Ek wou mos sê daar is net een mens wat sulke kos kook.”

Ma Marna se blou oë lag in hare. Sy gooi haar kop terug en die syerige silwer
bob waaier oor haar skouers. “Lekker verrassing, nè.”

“Yslike verrassing,” beaam Helette. “Seker jou en Abel se gekonkel?”

Haar ma se glimlag wys twee diep kuiltjies. “Abel, ja. Hy is ’n baie


bedagsame man en wou jou graag op jou eerste aand hier laat tuis voel.

Toe nooi hy my ook hierheen.”


“Ma?” Helette kan haar ore nie glo nie. “Om te dink jy was al die tyd hier in
die kombuis besig terwyl ek in my woonstel was.”

“Dis darem nie Abel wat my in die werk gesteek het nie. Die ete was my idee
en Sarie was maar te bly daaroor.”

Dan is Sarie die huishoudster se naam. “Hoekom het Moek my nie kom groet
nie?”

“Dan was dit mos nie ’n verrassing nie.” Ma Marna kyk met blink, blink oë
na haar.

Helette loer rond. Die kombuis is skropskoon, alles weggepak op hulle plek.
“Lyk nie of hier veel meer is om te doen nie. Kom ons gaan gesels.”

Hand om die lyf stap hulle uit. Van die twee mans is daar geen spoor nie.
Hulle het soos mis voor die son verdwyn. Bedagsaam van hulle, nou kan sy
en ma Marna ongestoord in haar plek gaan kuier. Abel het seker gery en sy
dogter gaan haal.

“Lekker plek wat jy hier het, my kind.” Marna kyk goedkeurend rond terwyl
sy van vertrek na vertrek loop met Helette kort op haar hakke. “Dis ’n
wonderlike geluk wat jou getref het.”

“Is dit nie,” beaam Helette. “En om te dink my ma slaap op my heel eerste
aand hier by my.”

“Sommer ’n heerlike daknatmaak vir jou nuwe blyplek.” Sy draai om na


Helette, haar blou oë nou ernstig. “Hierdie Abel is ’n man uit een stuk, Letjie,
mens krap nie so ’n man agter elke bos uit nie. Moenie hom deur jou vingers
laat glip nie.”

“Ma?” Helette skud haar kop in ongeloof. “Moet tog nou nie allerlei idees
kry nie, die man is my werkgewer. Hy betaal my ’n salaris om sy kind op te
pas. Ek ontvang nie gunste en gawes nie, ek lewer ’n diens waarsonder hy nie
kan klaarkom nie.” Sy kan nie help om te wonder wat haar ma se reaksie sal
wees wanneer sy Frank sien nie. Hy is net so ’n fees vir die oog, met ’n
heerlike humorsin daarby. Maar hy laat nie sterre in die hemelruim ontplof
wanneer sy hom sien nie. Daardie geheimsinnige iets wat sy by Abel ervaar,
ontbreek by Frank. Dit hoef haar ma egter nie te weet nie.

’n Fyn glimlag speel om ma Marna se mond. “Nietemin, ek glo julle paaie


het met ’n doel gekruis.”

Helette bars uit van die lag. “Dis nou so tipies. Jy’s bekommerd dat ek op die
rak gaan bly sit. Ek soek nie ’n man in my lewe nie, Moek.

Ek het jou en my musiek.”

Marna antwoord nie, glimlag net. “Famous last words, my kind.”

“Wag tot Ma sy broer sien. Nog meer vir die oog.” So ’n bietjie aandik sal
nie kwaad doen nie, dink sy heimlik en verkneukel haar in die uitdrukking op
ma Marna se gesig.

Kommer straal uit haar ma se oë. “Wees maar versigtig, my kind.

Twee mans en een vrou kan nie uitwerk nie.”

“Ek het nog nie kruideniersware gekoop nie, kom ons gaan maak tee in die
groot kombuis,” probeer Helette die onderwerp verander.

Helette en ma Marna sit diep ingedagte en tee drink. Daar is geen teken van
Abel of Frank nie. Beter so, dink Helette. Na wat haar ma vroeër kwytgeraak
het, is sy seker haar wange sal aan die gloei gaan wanneer sy Abel sien, want
ma Marna hoor blykbaar reeds trouklokke lui.

Die rinkellaggie van ’n kind laat Helette verbaas opkyk. Sanja kom die
eetkamer ingetrippel en gaan verbaas staan toe sy hulle gewaar. Sy gee ’n tree
terug, maar net toe verskyn ’n ouerige, deftig geklede dame agter haar. Seker
Vera, besluit Helette en staan op om nader te stap.

“Dag, ek is Helette en dis my ma Marna. U is seker mevrou Hough.”

Sy kyk na die dogtertjie. “Hallo, Sanja.”

“Hallo.” Sanja kyk uitdagend na haar en ma Marna asof sy meen hulle hoort
nie daar nie. “Jy was nou die dag by my en pappa by sy werk,” onthou sy.

Helette glimlag gul. “Dis reg, jy onthou goed.”

Ma Marna het intussen ook nader gestaan om te groet.

Vera se blik bly egter vasgenael op Helette, sy kyk nie eens in haar

ma se rigting nie. “Wat maak jy hier, Gertruida? Ek het dan gedink jy is ook
al lankal dood, nes hy.”

Gertruida? Geskok staar Helette na Vera. “Ek is Helette, Mevrou, nie


Gertruida nie. Ek dink u verwar my met iemand anders.” So byna voeg sy by
dat enige mens mos kan sien sy is springlewendig en beslis nie dood nie.

“Jy lieg. Moenie dink ek ken jou nie. Wat wil jy hierdie keer hê?

Martin leef nie meer nie. Hy was buitendien klaar met jou. Klaar, hoor jy my.
Hy’s dood. Ek het niks meer wat jy van my kan steel nie. Gaan weg en laat
my in vrede.”

Helette kyk na ma Marna, wat met haar vinger op die mond beduie sy moet
stilbly en liewer nie antwoord nie. Emosie op emosie spoel deur haar.
Gertruida. Dit moet dan seker haar biologiese ma se naam gewees het. Nou is
die raaisel van die onleesbare naam agter op die foto van haar ma ook
opgelos. En sy lyk dan seker regtig baie na haar eie ma, daarom Vera se
reaksie.

“As jy nie nou loop nie, roep ek vir Abel om jou te kom verwyder.”

Vera se oë staan wild in haar kop.

“Is hier probleme? Hoekom wil jy my roep, Vera?”

Verlig kyk Helette na Abel, wat by hulle aangesluit het. “Ek dink sy verwar
my met iemand anders, Abel.”

“Dis Gertruida, Abel, sy’t teruggekom. Sê vir haar sy moet loop,” sê Vera
skril.
Met sy arm om Vera se skouer, paai Abel. “Nee, Vera, dis nie Gertruida nie.
Gertruida is al lankal dood. Dit is Helette. Sy is Sanja se nuwe au pair. Sy
gaan ons help om Sanja op te pas.”

Vera knik, skielik lammetjiemak. “Jy’s reg, Gertruida is dood,” stem sy nou
kalm saam. Dan kyk sy weer vraend na Abel. “Maar ek kan mos na Sanja
kyk?”

“Dis reg, ja,” antwoord Abel geduldig, “Maar onthou, jy word ook moeg. Ek
moet iemand hê wat kan help as jy moeg is.”

Dit stel Vera blykbaar gerus, want sy knik instemmend.

“Ouma Vera,” laat Sanja nou ook van haar hoor. “Ek wil nie hê sy moet my
oppas nie.” Met blitsende oë steek sy vir Helette tong uit.

Al besef Helette dis dalk die normale optrede van ’n kind, is dit nogtans ’n
kwetsende ervaring. Wat ’n jammerte dat die kind die hele toneel aanskou het
en Vera se beskuldigings gehoor het, want nou deel sy haar ouma se
antagonisme.

“Dit doen jy nie, San,” raas Abel en tel die kind op. “Kom ek vat jou en
Ouma na jou speelkamer toe. Ek sal later verduidelik, Helette,” sê hy. Met
Sanja op die arm help hy Vera die vertrek uit.

“Sjoe.” Helette blaas haar asem hard uit. “Lyk my ek het ’n taai toffie om
hier te kou.”

“Ja, my kind,” antwoord haar ma peinsend. “Ek weet nou nie meer of dit so
’n goeie ding is dat jy hier gaan bly nie.”

Helette besef die situasie het ma Marna ontstel. Haar ma is doodsbleek. Sy


moet sê, sy het self nou nogal bedenkinge. “Kom ons gaan woonstel toe, dan
gaan lê Moek ’n bietjie. Sommer netnou het ons vergeet hiervan,” troos sy en
verbaas haar dat ma Marna haar so gewillig laat lei. Dit is nogal eienaardig,
die rolle is gewoonlik andersom – ma Marna wat háár troos. Maar nou ja,
haar ma stap ook aan in jare.
Toe ma Marna se rustige asemhaling later aandui dat sy slaap, staan Helette
sag op. Sy sal in haar ateljee gaan rondloer. Nog voor sy die ateljee bereik,
klink die ligte klop aan haar woonsteldeur wat in die huisgang uitloop.

Dis Abel en sy gesig lyk moeg. “Kan ons gesels, Helette?”

“My ma rus nou, ons stemme gaan haar steur.”

Hy knik. “Goed, kom dan saam na my studeerkamer.”

Hy klink so ernstig, dink sy benoud en loop met swaar asemhaling saam met
hom studeerkamer toe, waar hy haar na die gesellige sithoekie ’n ent weg van
die massiewe lessenaar lei. Nes die eerste keer

in hierdie vertrek, onthou Helette, en gaan sit weer in die roesrooi leerstoel.
Abel maak hom ook weer op die rusbank oorkant haar tuis.

“Helette, nou sal jy seker verstaan waarom ek nie wil hê Vera moet
verantwoordelikheid vir Sanja neem nie. Sy is baie lief vir die kind, maar sy
is nie meer altyd so helder nie. Tog onthou sy sekere dinge van die verlede
nog goed, soos netnou.”

“Toe sy my vir Gertruida aangesien het?”

Abel vee moeg oor sy oë en knik. “Ja, Helette, en sy was ernstig, hoor. Ek
gaan jou alles vertel sodat jy Vera beter kan verstaan, aangesien jy deel van
hierdie huishouding gaan word. My oorlede skoonpa, Martin, het ’n buite-
egtelike verhouding met ’n meisie genaamd Gertruida gehad. Die verhouding
het doodgeloop toe die meisie swanger geraak het. Martin het haar ’n
reusetjek in die hand gestop en gesorg dat sy in ’n tehuis opgeneem word.
Die tehuis het vir Martin laat weet Gertruida het tydens die bevalling gesterf
en die kind is uitgeplaas vir aanneming, soos Gertruida vooraf gereël het.
Gertruida se naam is nooit weer genoem nie. Daarom dat ek so verbaas was
dat sy jou so genoem het.”

Helette sluk swaar. As hy darem die waarheid moet weet … ’n Skielike


deernis teenoor Vera wel in haar op. Maar nog meer deernis jeens die
onbekende, afgestorwe Gertruida. Arme mens, in haar nood opsy gestoot.
Sy sal dit nie kan verdra dat Abel haar met jammerte moet bejeën as hy moet
weet sy is daardie baba nie.

“Hoe weet jy van al hierdie dinge as daar nooit weer oor gepraat is nie? Dit
het tog gebeur voor jy met Vera se dogter getroud is.”

“Sandria het my vertel. Sodat ek Vera beter moet verstaan.” Hy het

’n veraf kyk in sy oë.


Sou hy nog baie na Sandria verlang? wonder Helette. Mens vergeet seker
nooit jou oorlede huweliksmaat nie. “Het dit voor of na Sandria se geboorte
gebeur?”

Hy glimlag afgetrokke. “Min of meer dieselfde tyd. Dis wat dit so tragies
gemaak het, die twee geboortes was volgens Sandria feitlik enkele dae
uitmekaar. Dit was aanvanklik vir Sandria ook ’n hewige skok toe sy eendag
per ongeluk ’n rusie tussen Martin en Vera aangehoor en hulle daarvan
gepraat het. Hulle het nooit besef hulle dogter is binne hoorafstand nie. Eers
jare later het Sandria begin wonder wat van haar halfsuster of -broer geword
het. Sy was vas van plan om hom, of haar, te soek, maar is dood voor dit kon
gebeur. Of Sandria dit sou regkry, weet ek nie. Sy sou dit in elk geval onder
die grootste geheimhouding moes doen om te keer dat Vera nie ’n stokkie
daarvoor steek nie.”

“En toe lyk ek nou vir Vera na Gertruida,” sê Helette halfingedagte.

“Die een of ander iets omtrent jou moes haar aan Gertruida herinner het.
Miskien …”

“Wat?”

“Gertruida het glo ook swart hare gehad. Dit was dalk net so lank en reguit
soos joune. Moontlik het jy haar aan die vrou laat dink. Dit het dalk al die ou,
pynlike herinneringe laat herleef.”

Op die foto is haar biologiese ma se hare definitief lank en steil soos haar eie.
Geen wonder Vera het so geskrik nie. ’n Rilling trek deur Helette se lyf. Dis
dinge wat gewoonlik net in stories gebeur. Daar kort net nog ’n donker nag
en bloederige maan om dit ’n regte riller te maak. Sy is seker dis hierdie
gebeure, dat Vera haar vir Gertruida aangesien het, wat ma Marna so hewig
ontstel het. Maar hoekom?

Haar ma is tog ’n gesoute verpleegster en het mos al baie met sulke pasiënte
te doen gehad. Aan die ander kant, Vera se tirade was eintlik genoeg om
enigeen buiten weste te laat van skrik.
Vertroostend sit hy sy arm om haar skouers. “Helette, ek is jammer dat jy
hierdie ervaring in my huis moet hê.”

Soos warm botter wat smelt, sy stem, dink sy vir ’n oomblik dromerig.
“Miskien is dit die beste om net daarvan te vergeet.” Hy

moet maar dink die bewing in haar stem is te wyte aan ontsteltenis, want sy
hand op haar skouer brand reg deur haar klere tot op haar vel.

Hy glimlag en sy oë speel oor haar gesig. “Jy’s reg. Hoe minder ons daaroor
praat, hoe beter. Netnou word dwergies reuse. Vera sal gou weer vergeet wat
sy vir jou gesê het.”

Kristalhelder glas, sy oë. So naby is hy dat sy haarself daarin weerspieël sien


en dis asof sy die suiwerste note in haar kop kan hoor.

Kristalsimfonie. Nou weet sy dit is die naam vir die nuwe komposisie wat
reeds in haar kop broei. Die fluit sal sterk figureer met suiwer, skoon note
soos kristal, en Abel se oë sal haar inspirasie wees.

SES

Die Kersboom se liggies flikker die hele tyd aan en af en gooi lig en skadu in
sagte kleure oor die vertrek. ’n Gevoel van vrede en vreugde nestel diep in
Helette se hart. Verlede jaar hierdie tyd was sy nog in Europa, en hoe het haar
hart nie toe gebrand om Kersfees saam met ma Marna te kan deurbring nie.

En hier is hulle nou almal saam en sy is al baie tuis in die Du Vos-


huishouding. Dis nog net Sanja, en natuurlik Vera, wat sukkel om haar
teenwoordigheid te aanvaar.

Tog is daar by al die vreugde ’n gevoel van teleurstelling. Dit lyk asof Abel
doelbewus ’n afstand tussen hulle handhaaf. Afsydig het hy gekom en
gegaan, haar vriendelik gegroet wanneer hy haar sien, maar verder geen
poging aangewend om veel te gesels nie. En sy het haarself probeer oortuig
dit maak nie saak nie. Sy is na alles net sy dogter se au pair, het ’n dak oor
haar kop, kry ’n salaris en het genoeg tyd om saam met ma Marna, wat op
Abel se aandrang ook Kersfees hier deurbring, te kuier. En as die feesdae
verby is en haar ma weer weg, sal sy haar so verdiep in haar werk, daar sal
nie tyd wees om oor Abel te tob nie.

Sy het langsamerhand agtergekom sy begin ’n gevoel vir Abel ontwikkel. Of


dit meer as net verliefdheid is, sal die tyd moet leer. Hy is so egter so verdiep
in sy werk, dit lyk of hy haar nie raaksien nie.

Die eerste keer in jare wat sy bereid is om haar weer in ’n verhouding te


waag, moet dit nou juis met hierdie werkgedrewe professor wees.

Nie dat daar fout is met ’n gesonde werksetiek nie, sy verdiep haar dan self
ook hart en siel in haar werk, maar iewers moet die hart tog kans kry om die
res van die wêreld ook in te adem. Sy sal dit maar net moet aanvaar. Behalwe
haar salaris, is hy niks anders aan haar verskuldig

nie. Gelukkig is Frank die ene vriendelikheid, maar vir haar sal hy nooit meer
as ’n vriend wees nie, al het sy agtergekom hy hoop op meer.

Haar oë dwaal na Frank. Hy is so ’n vrolike, opgeruimde mens en laat haar


menige keer skaterlag. Sy geniet sy geselskap baie. Langs hom sit Vera, wat
na die vorige drama verbasend kalm voorkom.

Wonder bo wonder was sy tot dusver baie vriendelik met Helette en ma


Marna. Sy lyk baie elegant en stylvol vir haar ouderdom. Haar modieus
gekapte hare toon nie ’n titseltjie grys nie. Natuurlik in die salon weggewas.
Styf aangeleun teen Vera sit Sanja. Helette sug innerlik. Dis nou ’n taai toffie
en sy wonder hoe op aarde sy op die lange duur met Sanja gaan vaar, want sy
is gruwelik bederf. Tipiese geval van ’n pa wat te jammer voel vir sy kind
omdat sy moederloos grootword. Tussen hom en Vera kry Sanja haar sin met
net mooi alles.

Toe Abel kug, raak dit stil. Al die oë is meteens op hom gerig. Die Kersboom
se liggies tower reënboogkleure uit sy blonde kuif en Helette sit haar en
verkyk daaraan. Sy strengel haar vingers inmekaar en dwing haar om diep en
rustig asem te haal sodat sy op Abel se woorde kan konsentreer.
Dan loer sy skuins na Frank en sien hoe sy oë waarderend oor haar gly.
Natuurlik voel sy gevlei deur sy bewondering. Watter vrou sal nie?

As Abel dan uit graniet gekap is, kan sy netsowel Frank se aandag geniet.
Vererg besef sy op watter koers haar gedagtes dwaal. Is sy nou skoon laf?
Wat het van doktor Boshoff geword?

Toe Abel weer hard kug, besef sy hy het agtergekom haar gedagtes is nie by
die oomblik nie. Hitte stoot teen haar wange op. Sy vermy sy ondersoekende
grys oë en wens hierdie alewige gebloos van haar wil end kry.

“Tannie Marna, Helette, dit is ons gewoonte om op Oukersaand by die


Kersboom Kersliedere saam te sing en Bybel te lees.”

Verras kyk sy na hom. Hy klink so huislik en vaderlik en tradisievas.

Hulle was seker ’n baie gelukkige gesin, hy en Sandria en Sanja. As Sandria


nog geleef het, het Sanja teen hierdie tyd seker al ’n boetie of sussie gehad.

“Helette, sal jy asseblief die klavierbegeleiding doen?”

Al het sy ’n klavier in die woonstel, begeer sy lankal om haar vingers op


hierdie vleuelklavier te lê. Sy knik en gaan sit gretig voor die klavier.

Vinnig toets sy die note en vra wat hulle wil sing. Een na die ander lied volg
en sy verluister haar. Abel se ryk bariton harmonieer perfek met Frank se
tenoorstem. Hulle eindig met “Stille Nag” en toe Helette vir ma Marna kyk,
sien sy hoe haar oë van ongestorte trane blink. Dis hoe hulle gesin ook altyd
Oukersaand gevier het.

Abel neem die Bybel en die bekende woorde vul die vertrek: “En daar het
herders in dieselfde landstreek oor hulle skape wag gehou …”

Die bewoënheid op ma Marna se gesig raak Helette diep. Oorlede pa Paul het
gereeld ook Oukersaande daardie Skrifgedeelte gelees. Die oomblik is gelaai
met erns. Ook Frank se gesig is stemmig, byna somber. Dra hy ook swaar aan
herinneringe van vervloë tye toe hulle ouers nog geleef het? Soos sy van Abel
verstaan het, was hy maar baie jonk toe hulle ouers dood is en hy onder Abel
se vlerk moes inkruip.

Na die gebed spring Sanja op en gaan plant haar twee voetjies stewig by die
geskenke onder die boom.

“Ja, Sanpat, Pappa weet hoekom jy daar staan. Sal jy vir ons die geskenke
uitdeel?” Abel kyk goedig na Sanja.

Helette loer na Frank en sien spanning op sy gesig. Het die emosie van die
aand dalk vir hom te veel geword? wonder Helette. Sy het al vermoed sy
vrolikheid is net ’n skans om homself te beskerm.

Abel help Sanja met die geskenke, lees vir haar die name op die pakkies en
dan trippel sy blinkoog om elke geskenk te oorhandig.

“H’m,” klink sy stem geheimsinnig toe hy die laaste pakkie vir haar hou,
“gaan gee gou vir tannie Helette, poplap.”

Sanja vou haar hande agter haar rug saam en pers haar lippe

opmekaar. “H’m-h’m,” skud sy haar kop en bly geplant op dieselfde plek


staan.

Verleë voel Helette ma Marna en Vera se oë op haar en toe sy verder opkyk,


is dit vas in Abel se berouvolle blik. Sy lek oor haar lippe.

Duideliker kon die kind nie gewys het dat sy nie van haar hou nie.

Verwond sit sy en weet nie waar om te kyk nie. Uit die mond van die
suigeling … Waarom het die kind tog so ’n weersin in haar? Sy bly dan al
geruime tyd hier, speel met Sanja, lees stories en het haar al ’n paar keer in
die bed gesit as Abel moes uit na vergaderings. Helette wonder of Sanja dalk
dink sy wil haar ma se plek inneem. Of is dit haar ouma se gif?

“Toemaar, Pappa sal dit vir haar gee,” probeer Abel die situasie red en kom lê
die pakkie op Helette se skoot neer. “Ekskuus, jong,” fluister hy by haar oor,
“ek weet nie wat het in my kind gevaar nie.”

Sy kan maar net knik want sy vertrou nie haar stem om te antwoord nie.
Dankbaar voel sy ma Marna se hand warm oor hare vou. Dat ’n klein kind
mens so totaal verwerp kan laat voel …

Dikmond gaan Sanja weer langs Vera sit en vou haar arms.

Helette bekyk Sanja verslae. Sy sien ook die moedelose uitdrukking op Abel
se gesig. Die aand is heeltemal bederf. Soos ’n ballon wat geprik is. Sy kry
hom jammer. Kind grootmaak is voorwaar nie maklik nie.

Om te dink sy moet na hierdie moeilike kind omsien.

Sy bewe liggies en toe ma Marna bekommerd na haar kyk, knipoog sy om


haar ma gerus te stel en begin die geskenkpapier versigtig om die pakkie op
haar skoot losmaak. Verstom staar sy na die skelpienk Lorenzi-handsak in ’n
parmantige, moderne ontwerp. In die sysak steek ’n kaartjie uit en sy haal dit
nuuskierig uit. Gesien jy hou baie van hierdie kleur. Mag dit vir jou plesier
verskaf, Abel. Sy kyk op in sy oë, sien hoe hy haar intens dophou en glimlag
spontaan vir hom terwyl sy erkentlik knik. Fyn lagplooitjies verskyn langs sy
oë en lang

keepkuiltjies in sy wange. “Dankie, dis pragtig,” kry sy dit eindelik hees uit
en probeer haar ma se peinsende blik vermy. Om ma Marna se eie woorde te
gebruik, haar ma is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.

Sy vermoed teen hierdie tyd hoe die wind vir haar kind waai, anders is sy nie
ma Marna nie. Sy wonder wat haar ma sal sê as sy weet dis maar net haar
hart wat wipplank ry. Abel staan stewig op neutrale grond.

“Tannie Marna, Helette, verskoon ons asseblief,” sê Abel na die tee en


verversings, “ek neem net gou vir Vera huis toe.”

Sanja klou aan Abel se bene. “Ek ry saam, ek bly nie hier nie.” Die kind
begin droewig huil.

“Goed, ounooi, kom,” paai Abel en tel haar op. Hy kyk weer verskonend na
Helette.

Dankie tog, hy neem sy dogter saam. Die kind wil vanaand weer duidelik
niks met haar te doen hê nie. Sy loer na ma Marna en trek haar skouers op.
Haar ma glimlag simpatiek vir haar.

Toe Vera vir Helette groet, sê sy weer hard sodat almal kan hoor: “Jy moet
weggaan. Jy kan nie hier bly nie, jy lyk te veel soos sy.”

Verslae groet Helette vir Vera. Ook Vera was die afgelope tyd al baie
vriendeliker met haar. Hoekom nou, op hierdie aand, dit? Sy draai na Marna
toe en kyk verstom in haar ma se doodsbleek gesig vas. “Wat makeer,
Moek?” vra sy beangs.

“Hoofpyn. Vreeslike hoofpyn. Ek gaan maar slaap. Sê vir Abel ek sê baie


dankie vir die lekker aand.”

“Ek kom saam.” Helette haak by haar in.

In haar woonstel help sy haar ma verklee, sien toe dat sy ’n hoofpynpil drink
en sit so ’n bietjie by haar op die bed. “Ek hoop nie Vera se dingespraatjies
het Moek ontstel nie.” Ellendige vroumens. Dis nou die tweede keer dat Vera
daardie kaf kwytraak. En dit ontstel ma Marna blykbaar vreeslik. Hoe goed
verstaan sy dit tog nie. Ma Marna, met haar goeie hart, was nog altyd
hiperbeskermend teenoor Helette,

en Vera het dit gewaag om haar enigste ooilammetjie aan te val.

Sommer gou is haar ma in droomland en Helette trek die duvet oor haar
skouers, skakel die hooflig af sodat slegs die dowwe bedlampie brand en stap
saggies uit.

Die Kersboom lyk verlate in die hoek van die sitvertrek. Sy maak die
geskenkpapiere bymekaar. Die mag van die gewoonte kry die oorhand, want
een vir een vou sy die geskenkpapiere op en sit dit in ’n netjiese hopie op die
klavier neer.

“A ha, die prinses is alleen.”

Sy ruk soos sy skrik en draai om. Frank se oë lyk donker, soos klam kaneel
en daar is lyne langs sy mond. “Frank,” fluister sy, “wat is fout?”
“Kom ons sê maar dis die spoke van die verlede.” Hy loop nader.

“Wil jy daaroor praat?”

Hy skud sy kop. “Dit sal nie help nie.”

Sy beweeg nader aan hom. “Natuurlik sal dit verligting bring as jy praat,
Frank. Wat anders sal dan help?”

“Dit.” Sy arms vou om haar en hy druk haar teen hom vas.

Staan doodstil. Moenie jou teësit nie, sê sy vir haarself. Dit kan tog nie kwaad
doen nie, hy soek net ’n bietjie troos.

Maar Frank se vashou is dié van ’n man met ervaring. Sy hande begin haar
lyf verken en sy moet keer so al wat sy kan. Sy drankasem maak haar naar.

Hy druk haar so styf vas dat sy nie kan beweeg nie en sy lippe kom eisend op
hare neer, kneus haar mond terwyl hy haar rug met lang hale streel. Hoe sy
ook al beur, sy kom nie los uit sy omhelsing nie, sy greep verstewig net.

“Kan ek asseblief verbykom?” vra Abel ysig.

Frank los Helette so blitsig dat sy byna haar ewewig verloor.

“Deksels, Ouboet, moet jy mens so laat skrik?” Sy stem klink swaar en


beneweld.

Abel staan met ’n slapende Sanja in sy arms en kyk na hulle met sy bekende
frons. “Julle staan die hele vertrek vol en vry, ek kon nie anders nie want ek
kon nie by julle verbykom nie. Maar moenie dat dit julle afsit nie, ek sal julle
nie verder pla nie, ek loop net deur om Sanja in die bed te kry.”

Sy oë skroei oor Helette toe hy haar aanspreek. “Die vonkelwyn is geneig om


mens se bloed hittig te maak. Gelukkig was my kleinboet darem tot jou
beskikking. Goeienag.”

Helette kyk sy lang gestalte agterna met ’n warboel van emosies.


Woede, seer en vernedering wissel mekaar in haar gemoed af tot sy gestroop
voel, doods. Hoe durf hy!

En met die doodsheid in haar voel Helette hoe warm trane oor haar wange
loop. Sy laat haar kop in haar hande sak en bly doodstil staan, te skaam om
na Frank te kyk. Wat ’n vernedering!

“Helette, ek is jammer, jong, dis my skuld. Ek moes nie. Ek het te diep in die
bottel gekyk, maar ou Abel se roskam het my nou skoon nugter. Sê asseblief
jy vergewe my.” Hy trek haar weer in sy arms, hierdie keer sag en
vertroostend.

Dit klink meer na die Frank wat sy die afgelope tyd leer ken het.

“Goed,” sê sy sag, “ek is nie vir jou kwaad nie.” Sou Frank ooit kan raai dat
hy so pas al haar kanse by Abel verbrou het? Tog kan sy hom nie regtig
verkwalik nie, hoe moet hy weet wat in haar hart aangaan?

Sy verstaan dan self nie eens aldag wat gaan met haar aan nie.

Sy weet nie of sy haar dit verbeel nie, maar dis al of sy ’n seer in Frank se
kaneelbruin oë merk. Iets moet hom op hierdie Oukersaand tot drank gedryf
het. Dalk pynlike herinneringe wat hy op so ’n manier wou doodsmoor. Sy
weet per slot van sake ook maar niks van hom nie.

“Waarom doen ’n goeie man soos jy dit? Om jou op so ’n mooi aand aan
drank te gaan oorgee?” waag sy tog om te vra en hou asem op dat sy dalk ’n
afjak kan kry.

“Lang storie, sustertjie, oom Frank sal jou eendag daarvan vertel.”

“Moes erg gewees het,” fluister sy.

“Was erg. Baie erg.” Met sy hande nou op haar skouers, gly sy oë oor haar tot
hy eindelik haar blik ontmoet. “Moenie jou aan Ouboet steur nie. Ek ken ou
Abel, hy’s vrek jaloers, dis sy probleem. Môre gaan hy soos ’n hond voel oor
hy so goor was. Ek het al lankal gesien hoe blink sy oë as hy vir jou kyk en
dink jy sien nie. Hy moet net weet ou Frank gaan ook sy hoek ingooi en kyk
of hy die vis kan inkatrol.”

“En ek is nou die vis?”

’n Vrolike lag borrel oor sy lippe. “Seker nie ’n vleiende vergelyking nie,
maar onthou, mens kry pragtige visse.”

Dankbaar vir die ligter stemming, lag sy saam.

En tog voel sy ietwat soos ’n Judas, want sy swymel in haar gedagtes oor
Abel, maar staan hier by Frank en geniet die troos wat hy op die oomblik
bied. Maar daar is mos niks tussen haar en Abel wat haar Frank se vriendskap
verbied nie. Niks, behalwe haar eie verraderlike hart nie. Dankie tog vir
Frank se vriendskap. Hier kon sy nou sy hemp sopnat tjank oor Abel se afjak
terwyl hy sagte trooswoorde in haar oor gefluister het. Sy sal Frank
vroegtydig moet laat verstaan dat daar niks meer as vriendskap tussen hulle
kan wees nie, want al was dit net ’n ligte geskerts oor die vis inkatrol, kan dit
tog wees dat hy regtig sulke idees het.

Dalk was dit ’n fout om onder Abel se dak te kom bly. Sy kon maklik elke
dag ingery het. Maar nee, wat dan van Sanja as hy snags moet weg wees? En
dit was tog ’n baie aanloklike gedagte om so naby Abel te wees, treiter haar
gewete weer.

Sy voel hoe Frank oor haar kop streel. Darem ’n stukkie troos, hierdie
simpatie van hom.

“Solank jy net onthou ou Frank is altyd daar vir jou. Vir troos, raad, pret of
sommer net om te gesels,” salf sy woorde haar gemoed, asof hy haar gedagtes
kon lees. “En ou Frank begin dink hy raak verlief.”

Helette hoor die dodelike erns in sy stem. Wat ’n dilemma tog. Haar

hart hunker na Abel, en Frank koester gedagtes oor haar.

Hy sit sy hande weerskante van haar gesig en kyk ernstig in haar oë.

“Weet jy hoe pragtig is jy? Eksoties, lieflik, begeerlik.”


Al wil sy dit nie, streel dit haar tog om dit te hoor. Watter vrou sal nou nie
daarvan hou nie? Hy wys duidelik hy is die ekstrovert van die twee broers,
terwyl Abel niemand in sy binnewêreld inlaat nie. Sy sluit haar oë. Sy sit
voorwaar tussen twee vure. Dit wat sy wil hê, kan sy blykbaar nie kry nie en
dit waarvoor sy nie gevra het nie, kom op ’n skinkbord na haar toe aan.

“Ek wil jou graag beter leer ken, Helette. Sal jy my dit toelaat?” Sy stem is
fluweelsag.

Die eerbare uitweg is om oop kaarte met hom te speel en die gevolge daarvan
te dra. Dit kan hulle vriendskap skaad en dit wil sy nie graag hê nie. Sy sal
hom graag as vertroueling wil behou. Tog het sy nie die krag om dinge nou in
die reine te bring nie, haar kop voel skoon suf van al die teenstrydige
emosies. Netnou stel sy dit so lomp dat sy hom heeltemal van haar wegdryf.
Sy het Frank se vertroue en steun baie nodig. “Kom ons praat liewer later
daaroor. Ek voel buitendien nou doodmoeg.”

“Nes jy wil, maar onthou, ek bly jou dienswillige dienaar vir altyd.

Gaan klim in die bed, nooi, en droom van my.”

Met ’n soen op haar voorkop draai hy om en loop.

Dit sou soveel makliker gewees het as sy op Frank kon verlief raak, maar die
hart laat hom nie voorskryf nie, die hart volg ’n eie pad.

Hoe sal dit voel om deur Abel gesoen te word?

Vervaard skud sy haar kop en haas haar terug woonstel toe. Abel se hart
behoort nog steeds aan Sandria en hoe kompeteer mens met ’n afgestorwene?

SEWE

Helette kyk ma Marna se motortjie agterna terwyl dit al hoe verder weg
beweeg. Dit was nou werklik ’n heerlike paar dae, maar die feesdae is verby,
’n nuwe jaar het aangebreek en al haar ma se aktiwiteite gaan weer begin.
Tog so onafhanklik, haar ma, ’n wonderlike voorbeeld van moed en
deursettingsvermoë.

Sy vermoed ma Marna kon die spanning in haar duidelik aanvoel, maar sy


het seker wyslik besluit om nie uit te vra nie. Van altyd af het haar ma haar
die ruimte gegee om op haar eie tyd met probleme vorendag te kom. Hoe
dankbaar is sy nie daaroor nie, want sy het soveel wat sy eers self moet
bedink en ontleed, dis onmoontlik om dit nou al met enig een te deel.

Sedert Abel haar en Frank die aand in ’n omhelsing betrap het, loop hy wye
draaie om haar en kommunikeer net as dit nodig is. Aan tafel is dit Frank se
vrolike gebabbel wat die kil atmosfeer red. Selfs ma Marna se oë het ’n paar
keer vraend op Abel gerus asof sy ook probeer peil het wat hom pla. Hoe
lank dit so gaan aanhou, weet sy nie. Om alles te kroon het Sanja seker iets
van haar pa se argwaan begin agterkom, want die kind is net onmoontlik.
Nooit in haar dag des lewens het Helette kon droom dat ’n vierjarige so
agterbaks kan wees nie. In die geselskap is sy oënskynlik die ene
lieftalligheid teenoor Helette, net om in ’n regte klein feeks te verander as
hulle alleen is. Weier om te gehoorsaam, praat lelik met Helette, steek
gereeld vir haar tong uit en trek lelike gesigte. Dis duidelik dat die kind haar
wil afskrik. As Abel ooit weer trou, kry sy die arme vrou bitter jammer.

Sy weet sowaar nie of sy kans sien om hiermee voort te gaan nie. Ma Marna
gaan ’n groot verrassing kry as sy sommer vanaand nog daar by

haar op Vaalbult opdaag. Want sy gaan nie langer Abel se stilstuipe en sy


dogter se grille verduur nie. Dan maar kontrakbreuk. Hy moet nou net nie
moeilik wees daaroor nie.

Met ’n sug gaan Helette die huis binne en loop met ’n bonsende hart na Abel
se studeerkamer toe. Dis vroegoggend en sy weet hy is nog nie weg
universiteit toe nie. Sy moet nou die bul by die horings pak en met hom praat.
Sy wil nie meer hier bly nie. Of eerder, sy kan nie. Nie terwyl hy haar
behandel asof sy sommer net die een of ander kommoditeit is nie. Sy het geen
illusies meer oor wat dalk tussen hulle kan wees nie. Hoe op aarde kon Frank
ooit sê dat Abel dinge vir haar voel? Hy moet hom dit verbeel het. Sy is ook
nie meer seker wat sy vir hom voel nie. Sy kan altyd probeer om vir Frank
lief te word.
Hy lyk nie juis verbaas om haar te sien nie, beduie net sy moet sit.

Soos ’n skoolkind wat verbrou het in die hoof se dekselse kantoor, so laat hy
haar voel. Wel, daar wag ’n verrassing op hom.

“Ek kan nie meer vir jou werk nie, Abel, dit was ’n fout,” val sy met die deur
in die huis. “Ek gaan terug Vaalbult toe, na my ma toe. Ek wil by haar gaan
bly.”

“O so, betaal ek jou nie genoeg nie?” Sy wenkbroue skiet dakwaarts en sy


staalgrys oë skiet pyle op haar af. “Het jy vergeet ons het ’n kontrak?”

Sy ruk haar skouers reguit en haar stem klink skerp in haar eie ore.

“Dit is tog deur niemand beëdig nie.” Haar oë wyk nie voor sy streng blik
nie. “Dis net die papier werd waarop dit geskryf is.” O, sy weet dit klink nie
baie eerbaar nie en dit druis heeltemal in teen haar integriteit.

Sy oë gly koud oor haar. “Jy’s seker reg,” sê hy koud, “die kontrak was ’n
vertrouensverhouding. Iets soos jou erewoord, Helette. Hoe lyk dit my jy gee
geen snars om dat jy my in die steek laat nie? Ek het jou vertrou.”

Sy lig haar ken en kyk hom stip aan. “Abel du Vos, jy kan gaan stik.

Ek dink jy weet goed genoeg waarom ek nie meer hier wil werk nie.

Dis laag en gemeen om nou op my gevoelens te probeer speel. Ek laat nie


langer op my trap nie. Jy het verkeerde aannames gemaak daardie aand toe jy
my en Frank bymekaar gekry het.” Sy gaan niks verder verduidelik nie. Sy
lig haar ken. “Goed, ek is bereid om ’n maand kennis te werk, dit sal jou kans
gee om te adverteer vir ’n ander au pair.

En moenie my probeer ompraat nie, ek het klaar besluit.”

“Drie maande.” Sy mond is ’n dun lyn en sy oë donkergrys. “Jy skuld my dit


om ten minste drie maande voor die tyd kennis te gee. Dit gaan tyd neem om
’n geskikte plaasvervanger te kry. Ek sal onderhoude moet voer voor ek
iemand kan aanstel en dit sal nie eens ’n waarborg wees dat dit die regte
persoon is nie. Verdomp, Helette, jy maak dit vir my baie moeilik. Dan moes
jy liewer nooit gekom het nie.

Miskien kon ek dan al lankal iemand anders in diens geneem het.”

“So, ek is in diens geneem.” Sy kyk dakwaarts en byt op haar tande van


verontwaardiging. “Dan is dit wat ek is – ’n werknemer en jy die baas.” Was
dit dan werklik net haar verbeelding wat haar oortuig het dat hy wel soms
met ’n spesiale lig in sy oë na haar kyk? En toe Frank haar sien vir die
volbloedvrou wat sy is en haar deeglik soen, gee hy haar ’n koue skouer.

“Dis jy wat dit sê, nie ek nie,” sny sy stem deur die warboel van haar
gedagtes.

Sy knip haar oë. Dinge is te deurmekaar en sy verstaan haarself nie.

Sy hou nie van Abel nie, tog kneus dit haar ego dat hy so duidelik wys hy stel
nie in haar belang nie. Dit maak haar so deurmekaar, want hy was mos nie
die rede waarom sy graag hier wou werk nie. Dit was om haar wortels te leer
ken. Intussen het daar muisneste in haar kop kom nestel. En dit kan sy nie
van haarself verstaan nie, sy is altyd so ’n nugter denkende mens. Hoe gaan
sy buitendien drie maande met sy onmoontlike kind uithou? Om nie eens van
sy koue afsydigheid te praat nie. Sy sal hare op haar tande moet hê. “Goed,
drie maande,”

antwoord sy oplaas.

“Dit klink beter. O ja, nog iets. Jy neem vanoggend vir Sanja kleuterskool
toe. Dis deel van jou pligstaat.”

Kan jy nou meer? Hy het dit nog elke oggend self gedoen. As dit deel van
haar pligte is, hoekom het hy dit nie lankal gesê nie? Nou is dit sommer ’n
bevel. Dit voel asof haar hare wil rys. Die kind wil niks met haar te doen hê
nie, hoe op aarde gaan sy haar alleen behartig?

“Maar ek weet nie waar …”

“Die kinderoppasser ry saam. Sy sal vir jou die pad beduie.”

Sy knik. “Goed.” Jig, sy sien so op hierteen, maar sal hom dit om die dinges
nie laat agterkom nie. Dankie tog vir die kinderoppasser. Die bietjie wat sy al
van haar gesien het, lyk heel goed, sy het nogal ’n slag met Sanja.

“Vera se nonsies moet jy van jou laat afrol. Dit is maar deel van die
aftakeling van haar breinselle.” Sy stem klink heelwat meer genaakbaar. “En
Sanja … Gee asseblief vir Sanja genoeg tyd om aan jou gewoond te raak.”

Die krakie in sy stem laat haar verbaas na hom kyk.

Helette vleg behendig deur die verkeer en volg die kinderoppasser se


aanwysings. Sy kan nog steeds nie oor haar verbasing kom nie. Van Sanja het
sy luide teenstand verwag, en was glad nie voorbereid op hierdie stilstuipe
nie. Al wat die kind se wantroue verklap, is die blitsende grys oë, nes haar pa
s’n, en haar stywe lippe.

“Jy kan maar bly sit, ek sal saamloop,” sê sy vir die kinderoppasser toe hulle
by die skool stilhou. Siende dat dit haar werk vir drie maande gaan wees, kan
sy netsowel nou al die bul by die horings pak en die personeel ontmoet.

“Ek sal self ingaan, ek’s nie ’n baba nie,” pruil Sanja en weier om saam te
loop.

Met my gaan jy jou moses teëkom, juffroutjie, besluit Helette daar

en dan en hou haar doof. Toe Sanja sien dat Helette doodeenvoudig
saamloop, hardloop sy vooruit, reg op die middeljarige vrou af wat die
kinders op die stoep inwag. Helette staan verstom en kyk hoe die vrou op
haar hurke afsak en Sanja, wat op haar afstorm, in haar arms toevou. Vir die
eerste keer hoor sy Sanja vrolik lag en praat deurmekaar, opgewek soos enige
kind van haar ouderdom.

Toe Helette nader kom, sluip die behoedsaamheid weer in Sanja se oë.
Waarom hou die kind nie van haar nie? Sy verstaan dit nie, gewoonlik is
kinders dol oor haar en sy oor hulle. Hier is iets vreemds aan die gang. Sy sal
Sanja se vertroue op die een of ander manier moet wen. Nee, nie moet nie, sy
wil. Geen uitdaging het haar al ooit afgeskrik nie. Dalk is die drie maande tog
’n goeie ding. Baie kan in drie maande se tyd gebeur.
“Goeiemôre,” groet Helette die vrou toe sy by hulle aansluit, “ek is Helette
Boshoff, Sanja se au pair.”

Agter die brilglase weeg twee groen oë haar deeglik. Toe glimlag die vrou
vriendelik en hou haar hand uit om te groet. “Sunette du Toit, aangenaam.
Sanja is so ’n liewe dingetjie. Jy geniet haar seker baie. En dis goed dat haar
pa nou iemand gekry het om haar te versorg. Die oppasser is nog ’n blote
kind en die ouma blykbaar te oud om behoorlik om te sien.”

Sunette ken beslis ’n ander Sanja. Liewe dingetjie … verbeel jou.

Helette herkou ’n oomblik daaraan en glimlag terug. Sy hoop regtig sy sal na


die drie maande kan saamstem hiermee.

Dis doodstil in die huis toe Helette terugkom. Sy hoor net vir Sarie iewers
diep in die huis sing. Abel is natuurlik al weg universiteit toe.

Van Frank se kom en gaan weet sy niks. Hy praat nooit oor homself of sy
werk nie. Sy frons. Sy het geen benul wat Frank doen om siel en liggaam aan
mekaar te hou nie. Hy sal tog seker nie op Abel teer nie;

Abel sal dit buitendien nie duld nie. Sy moet tog onthou om Frank ’n bietjie
uit te vra. Soos gewoonlik het dit baie stil by die kothuis gelyk toe sy die
motor, wat Abel spesiaal vir haar aangeskaf het om Sanja mee te vervoer, in
die motorhuis gaan intrek het. Die parmantige klein ryding het dadelik haar
hart gesteel. “Net reg vir jou om hier in die stad mee te ry,” was sy woorde
toe hy die sleutel aan haar oorhandig. Haar mond het behoorlik oopgehang.
Dat die ou beer met die seer toon nou so vrygewig kan wees. “Beskou dit as
deel van jou pakket,” het hy streng bygevoeg toe sy die sleutel weier. Skoon
afgehaal het sy hom net verbaas kon aanstaar. “Ek weet jy het jou eie
vervoer, maar hierdie klein kalant werk makliker in die druk verkeer.”

Sy weet wat die eintlike rede is. Hy ag haar stokou motortjie nie betroubaar
genoeg nie. Gits, dit het haar nog altyd veilig gebring waar sy wil wees.

Vandag moet sy ook weer met erns by haar werk uitkom. Die emosionele
woelinge in haar binneste het haar kreatiwiteit erg gekortwiek. Sy beter nou
haar kop skoon kry. Die feestyd is verby en met Sanja in die skool en Abel by
sy werk, kan sy ongehinderd aan die gang kom. Verras kyk sy na haar
inkomende pos op die rekenaarskerm en maak dadelik die klein koevert van
die universiteit in Europa oop.

Dis die hoof van die musiekdepartement wat haar nooi om deel te neem aan
’n komposisie vir ’n simfoniekonsert. Agt komponiste sal elk ’n deel daarvan
skryf. Elkeen moet begin met dieselfde openingsakkoord van ’n bekende
Wagner-opera as inleiding tot hulle eie komposisie. Op die ou end word al
agt stukke aanmekaargelas vir ’n volledige simfonie. Die verskillende
komposisies word dan telkens deur die betrokke akkoord geskei.

“Jippie!” skree sy uitbundig en sit dan haar hand voor haar mond.

Wat ’n wonderlike uitdaging. Haar woonstel is gelukkig ver genoeg van die
kombuis af dat Sarie haar darem nie kon hoor gil nie. Sy wil tog nie hê die
vrou moet hier instorm om te hoor wat aangaan nie. Hierdie

uitnodiging maak sommer haar dag. Dis net wat sy nodig het. Gelukkig is
haar versameling CD’s hier. Gou kry sy Lohengrin tussen die ander uit en sit
dit in die CD-speler. Dit behoort haar te motiveer en haar kreatiewe oor weer
in te stel. Sy was in die laaste tyd so besig met ander dinge dat die musiek
taamlik agterweë gebly het. Met toe oë lê sy op die klein rooi sofa om haar
aan die musiek oor te gee – dit moet haar hele wese deurtrek. Dankie tog vir
die groot meesters na wie mens altyd kan teruggaan.

Oudergewoonte luister sy intens na elke noot. Toe die laaste klanke wegsterf,
sug sy genotvol, steeds met haar toe oë.

“Pragtig, nè?”

Verskrik sit sy regop. “Frank? Wanneer het jy hier ingekom?”

“Ek’s al lankal hier. Ek kon nie die versoeking weerstaan toe ek die musiek
hoor nie. Hoop nie jy gee om nie?”

Sy skud haar kop. “Nee. Maar moet jy nie nou by die werk wees nie?”
probeer sy diplomaties uitvind wat hy doen om sy brood te verdien.
“Nou waar dink jy is my werk?” terg hy en kom sit by haar op die sofa.

“Ek weet nie eens wat jy vir ’n lewe doen nie, wat nog te sê waar jy dit
doen.”

“Ai tog,” skud hy sy kop kamtig moedeloos, “en jy’t nog nooit gevra nie. Stel
jy dan so min in ou Frankie belang? Jy moet eendag kothuis toe kom en kom
kyk.” Sy oë glinster van genot.

“Nou het jy my baie nuuskierig. Wil jy nie maar vertel nie?”

“Dit sal nie dieselfde effek hê as wanneer jy self sien nie.”

“Nou hoekom so geheimsinnig? Dis mos nie regverdig nie, hier weet jy
presies wat ek doen,” beskuldig sy speels.

Hy lag diep uit sy maag. “My liewe Helette, ek weet op die aarde nie wat jy
doen nie. Hier lê jy en musiek luister. Noem jy dit werk?”

“Natuurlik. Dis die aanloop tot my werk. Dit moet solank die muse

wakker maak.”

Die komieklike uitdrukking op sy gesig laat haar skaterlag. Nog steeds die
ene opgewondenheid, kry sy dit nie reg om hom verder aan

’n lyntjie te hou nie. Soos ’n kind blaker sy die universiteit se uitnodiging


opgewonde uit.

“Helette …” Sy stem klink warm en hy vat haar hand in syne, “dis


wonderlike nuus. Baie geluk.”

“Dankie, Frank.” Oorbewus van sy hand op hare praat sy verder,

“dis vir my ’n geweldige eer om aan hierdie komposisie deel te neem.”

Met ’n eienaardige uitdrukking in sy kaneeloë buig hy nader om haar te soen,


maar sy draai haar gesig weg sodat sy lippe sag op haar wang land.
“Helette,” knars Abel se stem van die deur se kant af. “Die skool het my
gebel, hulle …” Abel staan in die deur, sy hand nog op die deurknop, die ene
verbasing. “Ekskuus, lyk my ek onderbreek al weer iets baie belangriks.” Sy
stem is so koud soos ’n Poolstreekwind.

Frank spring op. “Nee glad nie, Ouboet, ek was in elk geval van plan om nou
te gaan.”

Abel se mondhoeke trek ondertoe. “So dit was dan net ’n afskeid?”

Frank loer na Helette en glimlag ondeund. “Jy kan maar so sê, Ouboet, jy kan
maar so sê.”

Met ’n vinnige knipoog na haar kant toe stap hy deur toe en skuur verby
Abel.

Helette druk haar hare reg. Sy het geen beheer oor die blos op haar wange
nie. Seker weer bloedrooi, dink sy vies. Toe onthou sy Abel het iets van die
skool genoem. Sy voel ’n knelling in haar bors. Sonder ’n woord sit sy net na
Abel en kyk. Hy stap op haar af soos ’n jagter wat sy prooi bekruip. Hier kom
moeilikheid en daar is geen wegkomkans nie, dink sy benoud.

Met een pluk trek hy haar rekenaarstoel tot voor die sofa en gaan sit reg voor
haar met sy arms gekruis. “Wat het vanoggend gebeur toe jy

Sanja afgelaai het?”

Dit voel of haar keel wil toetrek. “Niks.” Sy maak keel skoon in ’n poging
om haar hees stem helder te kry. “Sanja was baie bly om haar juffrou te sien.
Sy het die vrou vrolik omhels. Wat is fout?”

“Sy huil glo al heeloggend en sê sy wil nie meer hier bly nie, want hier bly
nou ’n heks. Sy wil na Vera toe.”

Verslae luister Helette. “En die heks is dan seker ek?” Die woorde kom so
sag dat sy nie eens weet of Abel dit gehoor het nie.

“Dis wat sy blykbaar dink. Op die een of ander manier het iets wat jy gesê of
gedoen het, haar laat glo jy is ’n heks.” Abel sug. “Ek het jou dan so mooi
gevra om sag met haar te werk.”

Sag werk. Sy het meer as dit gedoen, dink Helette verontwaardig. As hy maar
net weet wat sy al alles verduur het. “Ek het Sanja nog net met die grootste
geduld en vriendelikheid benader. Waar sy aan die heksstorie kom, weet
nugter alleen.”

“Wel, ek gaan nie rus voor ek nie weet waar haar vrees vandaan kom nie. In
elk geval, ek het klere vir haar kom kry. Sy gaan vanaand by Vera slaap.
Deksels, dis juis wat ek nie wil hê nie, maar dis nou al wat vir Sanja sal
kalmeer.”

“Jy gaan haar dus haar sin gee?” Die beskuldiging is uit voor sy kan keer.

“As dit my kind sal laat bedaar, ja,” reageer hy koud. “In elk geval, jy hoef
haar dan nou nie te gaan haal nie, jy kan lekker ongesteurd met jou werk
aangaan.” Hy laat val die klem so sarkasties op “werk” dat sy op haar tande
moet byt om nie bitsig te antwoord nie.

Verslae bly sy sit toe hy sonder ’n verdere woord loop en die deur sag agter
hom toemaak. Die CD het lankal klaar gespeel en ’n leë stilte vul die vertrek.
As hy nie so aangedring het op die drie maande kennistyd nie, kon sy nou al
weg gewees het en was sy nie in hierdie web vasgevang nie.

Heks. Verbeel jou.

AGT

Dis net sy en Frank aan die etenstafel. Sowel Abel as Sanja se plekke is leeg.
Die andersins vrolike Frank is vir ’n wonder sonder woorde, diep ingedagte,
merk Helette.

“Abel het gesê hy eet vanaand by Vera,” lig Frank haar in. “Die ou broer van
my bly maar bekommerd oor Sanja se veiligheid by Vera. Ek sal my nie
verbaas as hy haar terugbring sodra sy aan die slaap is nie.”
“O wee, dan is dit môre weer ‘die heks’ wat die kind moet skool toe neem.”

Hy grinnik. “Ek het gehoor van die heksstorie. Moenie jou dit so aantrek nie,
Helette. Sanja is al van na haar ma se begrafnis af ’n moeilike kind. Sy sal
enigiets doen om aandag van Abel te kry, selfs dinge uit haar duim suig. Soos
die heksstorie.” Hy rol sy oë. “Die vet weet alleen waar sy daaraan kon kom.”

“Miskien het sy ’n storie gehoor. Baie van die kindersprokies het hekse in.”

“Jy’s reg. Maar gewoonlik raak kinders nie op hol daaroor nie. Hulle besef
dis net ’n storie.”

“Mag wees, maar die feit dat Sanja obsessief is daaroor, is ’n rooi lig.”

“Rooi lig?” Hy frons.

“Ja. ’n Duidelike bewys van ’n sielkundige probleem.”

“Oe, oe.” Hy bedek die glimlag met sy hand. “Moenie dat ou Abel dit hoor
nie. Hy glo nie aan sielkunde nie, hy sal dit as bog afmaak.”

“Wel, ek is bereid om hom daarmee te konfronteer. As hy vir Sanja omgee,


sal hy moet luister. Daar moet ’n rede wees dat sy my vir ’n heks aansien.”

Hy sit sy hand oor hare. “Hoe voel jy regtig oor Abel?”

“Hoe bedoel jy?”

“Hy is nie so onverskillig teenoor jou as wat hy probeer voorgee nie, dis net
’n rookskerm. Ek dink hy is jaloers as hy ons saam sien.”

Sy gaap hom verbaas aan. “Nee, nee, jy’s heeltemal verkeerd. Hy kan my nie
veel nie.”

Sy blik rus peinsend op haar. “Wel, hy het jou ateljee met groot sorg
toegerus. Dit was vroeër net ’n slaapkamer. Abel het met die eerste aanblik al
belanggestel, al besef die ou dit nie.”

Moet dit nie kop toe vat nie, sê sy vir haarself. Abel was maar net te bly dat
sy probleem opgelos is. “Hy wou maar net seker maak ek bly lekker hier.”

“Wel, ek vra weer, hoe voel jy oor Abel?” vra hy gewigtig.

Hy is werklik ernstig, besef sy verbaas en frons. “Ek weet nie of ek baie van
jou broer hou nie. Hy is te styf en formeel. Aan die ander kant, hy is my
werkgewer en moet seker ’n afstand hou.” En tog fassineer hy haar, erken sy
aan haarself.

“Ek dink jy draai jouself ’n rat voor die oë. Ek het oë in my kop, Helette. En
ek sien mos watse effek hy op jou het.” Sy oë hou hare gevange. “Dis net hy
wat te blind is vir die waarheid. En ek is blerrie jaloers.”

“Jy maak ’n fout,” skerm sy, “ek was nog nooit in ’n ernstige verhouding met
enige man betrokke nie, Frank, en het tot dusver net vir my studie en kuns
geleef. Ek weet nie hoe dit voel om …”

“Verlief te wees nie?” ’n Fyn glimlag speel om sy mond.

Helette knik, dankbaar dat hy nie weet wat regtig in haar hart aangaan nie.
Maar dat Frank so fyn kon oplet vir die uitwerking wat Abel se blote
teenwoordigheid op haar het, is ’n waarskuwing dat sy baie versigtig sal moet
wees. Netnou kom Abel dit ook agter.

“Moenie stres nie, ek sal niks teenoor ou Abel laat val nie,” verseker hy.

Hy glo dus nie ’n woord van haar ontkenning nie. Dit sal nie eens help om
hom verder te probeer oortuig nie. “Het jy by Abel ook probeer vis hoe hy
voel?”

Frank lag hartlik. “Ek waag dit eerder om ’n volbloed-Afrikanerbul te tart as


om hom dit te vra.”

Verligting spoel deur haar. “Sjoe, is jy so bang vir hom?”

Hy skud sy kop. “Nie bang nie, eerder versigtig. Maar om terug te kom na die
amoreuse … Abel en jy?”

Die man hou aan met karring. Sy verstaan haarself nie eens nie, hoe kan sy
daarop antwoord? “Nee, Frank, daar is nie ’n moontlikheid van

’n verhouding tussen ons nie. Tevrede?”

Hy glimlag ingenome oor wat hy hoor. “En as die ouboet nou nie in tel is nie,
wil jy my nie ’n kans gee nie? Abel dink ek is ’n losbol wat met ’n hele
klomp meisies vry en hy sal jou teen my wil waarsku, maar ek kan jou
verseker dis nie die geval nie. Ek is ’n eenvrouman. Wat sê jy, kan ek maar
probeer?”

Sy sug. “Frank, nee, dit sal nie uitwerk nie, jy is net ’n baie dierbare vriend.
Jammer om jou teleur te stel.” Skuldig sien sy die teleurstelling op sy gesig,
maar sy is seker hy sal nie bejammering wil hê nie.

“Ek sal dit soos ’n man probeer vat, Helette. Haai, moenie so bekommerd lyk
nie, ek toets jou net om my stelling van netnou te bewys.” Hy vryf aan sy oor.
“Abel is nou maar eenmaal baie ernstig, en hy dra nie sy hart op sy mou nie.
Sandria se dood was vir hom ’n skok.

Hy het tot dusver nie weer na ’n vrou gekyk nie, net vir Sanja en sy werk
geleef.”

Verbaas luister Helette. Frank is sowaar ’n diep mens wat sy broer se belange
opreg op die hart dra.

Hy gaan staan stil voor die venster, sy rug na haar toe. Na ’n ruk praat hy
verder. “Ouboet is ’n diepsinnige mens, ’n goeie man. Jy sien nie wat ek sien,
hoe sy oë opflikker as jy ’n vertrek inkom nie. Jy kom nie agter hoe hy elke
woord wat jy sê, indrink nie, Helette. Die

blikskottel besef dit self nie eens nie. Sy reaksie as hy ons twee saam sien, sê
vir my hy is verlief, al sal hy dit ontken.”

“Jy sien beslis dinge wat ek nog nooit gesien het nie, Frank,” skerm sy. As hy
maar weet hoe graag sy sou wou hê sy opsomming oor Abel moet in die kol
wees.

“Kom ons gaan drink daar by my plek koffie, dan kan jy sommer sien wat ek
vir ’n lewe aanvang,” nooi Frank.

Hoekom nie? Sy is al lankal nuuskierig om te sien hoe dit by hom lyk.

Hy vat haar hand op pad na sy kothuis toe en sy laat haar dit ter wille van die
vrede geval. Volmaan, sien sy toe hulle buite kom. Yl vlieswolke dryf mistig
voor die helder maan verby. Hoe maklik sal dit nie wees om vir hierdie man
lief te raak nie, peins sy terwyl hulle in stilte aanstap. Hy is alles wat ’n vrou
kan begeer. Hoogs aantreklik, intelligent en sensitief. Sy voel veilig by hom.
Maar …

Ongevraag doem Abel se beeld in haar op. Sy sidder toe sy aan die ysige grys
oë dink wat tot in haar siel kan boor en haar tot tande kners toe kan omkrap,
om net so skielik weer sagte blink.

“En die rilling wat deur jou trek?” wil Frank besorg weet.

“Ek het sommer aan vanoggend teruggedink,” jok sy. “Sies, toe vlug jy
lekker en los my alleen met die leeu.”

Hy lag hartlik en sluit die kothuis se deur oop. “Dis die mag van die
gewoonte. Ek het nog altyd geskoert as Ouboet kwaad is.”

“En wás hy nie kwáád nie,” giggel sy saam.

Haar vrolike lag stol dadelik toe Frank die lig aanskakel en sy besef hulle
gaan ’n skilderateljee binne. ’n Onvoltooide reuselandskap in vrolike, malse
kleure begroet haar. Sy stap nader. Van ver af vertoon die landskap realisties,
maar van naby is dit net onduidelike, wasige kleurvlakke. Die sterk kwashale
pas by Frank se manlikheid en die kleure by sy persoonlikheid.

Sy draai na hom toe en sien die afwagting in sy oë, tipies van die

kunstenaar wat hom voorberei op kritiek. Sy ken die gevoel, die sensitiwiteit
om jou siel bloot te stel. “Dis pragtig, Frank.” Sy kan net hoop dat hy die
opregtheid in haar stem kan hoor.

“Dink jy regtig so?”


Dit ken sy ook, daardie gevoel wanneer jou werk deur ander geweeg word en
jy nie seker is of die reaksie eerlik is nie. “Natuurlik,” sê sy warm. “Alhoewel
ek nie ’n kenner is nie, het jou werk vir my ’n besondere kwaliteit. Dis vir
enige kunstenaar belangrik om ’n eie styl te ontwikkel en ek kan sien jy het
dit. Ek is regtig verras. Dan is dit waarmee jy liggaam en siel aanmekaar
hou?”

Hy glimlag ingenome en skud sy kop. “Nie heeltemal nie. Dis my


stokperdjie. Kom kyk.” Hy lei haar na ’n kleiner vertrek langs die ateljee.
Verras loop sy tot voor die tekenbord om te kyk wat daaraangaan. Op die
reusevel papier pryk die planne van ’n groot winkelkompleks. “Argitek?”

Hy knik. “Ja.”

Weg is die skugter kunstenaar nou. Hier is hy die ene selfvertroue, meesterlik
in beheer. Helette bestudeer dit intens. Dis ook kuns, dog geskoei op die
vaste reëls van die argitektuur. Sy kyk met nuwe oë na hom. Dis soos ’n
verrassingspakkie. Weggesteek in ’n doodgewone pakkie wag die verrassing.
“Ek is beïndruk, hoor.”

“Dankie. Nou vir die beloofde koffie. Kom.”

Sy kyk hoe hy behendig met die koffiemasjien werskaf. Hoe sal dit voel om
so gesellig saam met Abel te verkeer, saam koffie te drink, sommer vir die
lekker? Haar verbeelding tower ’n prentjie van hulle twee saam op.

“Haai, ou dromer, kom ons gaan sit lekker en geniet ons koffie.”

Dankbaar dat hy nie weet waaraan sy gesit en dink het nie, volg sy hom.

Terwyl hulle in die gesellige klein sitkamer sit en koffie drink, lui haar
selfoon. Abel, sien sy op die skerm en antwoord dadelik.

“Kry asseblief vir my Sanja se bed reg, ek bring haar en Vera huis toe. Ek sal
later verduidelik.” Sy stemtoon is dringend. Voor sy kan antwoord, is dit
dood aan die ander kant.

“Iets fout?” wil Frank weet.


Sy vertel kortliks. “Jy was reg, Frank, hy sien nie kans dat Sanja by Vera
oorslaap nie. Hy’t nie veel verduidelik nie, maar het baie ernstig geklink. Jy
sal my moet verskoon, hulle kan enige oomblik hier wees.”

Sy vryf senuweeagtig oor haar hare, ’n ou gewoonte, sedert kleintyd, as sy


spanning ervaar.

“Wag, ek stap saam,” sê Frank. “Onthou nou, moenie jou aan Abel se buie
steur nie, die ou het baie probleme.”

Helette knik. “H’m, ek sal probeer onthou, maar ek kan nie waarborg ek sal
stilbly as hy my kwaad maak nie.”

Frank lag net sag.

Sy haas haar na Sanja se slaapkamer om te doen wat Abel haar gevra het. Sy
trek die ligroos gordyne met die ballerinamotief daarop toe en skakel die
bedlampie aan. Dan vou sy die duvet, van dieselfde materiaal as die gordyne,
terug sodat Abel Sanja kan neerlê. Skielik vorm daar ’n knop in haar keel
terwyl sy rondkyk. Dit herinner haar so baie aan haar eie kamer toe sy ’n
kleuter was. Dis ’n lekker kamer en Sanja behoort so tuis te voel hier,
behalwe: Sy het nie meer haar ma om saans hier by haar te sit tot sy slaap nie.
Arme, moederlose kind. Wie weet wat gaan nie alles in haar ou koppie aan
nie? Met nuwe helderheid besef Helette Sanja se houding teenoor haar is
maar net ’n verdedigingsmeganisme teen haar eie onsekerheid. Miskien kom
die kleinding ook agter dat haar ouma nie meer is wie sy altyd was nie en dit
laat haar dalk onseker voel. Helette neem haar voor om in die toekoms Sanja
se vertroue te probeer wen, al is sy ook hoe moeilik. Sy was nog nooit ’n ouer
nie, daarom haar kritiek omdat Abel die kind haar sin in alles gee, maar dis of
’n andersins toe deur nou op ’n skrefie oopgaan en sy met beter sig binnetoe
kan kyk. Sy sou dalk dieselfde

gedoen het as sy in Abel se skoene moes staan.

“Jy dink diep,” klink Frank se stem langs haar op.

Sy kyk skuldig na hom. “Ekskuus, jong, ek het byna vergeet jy is ook nog
hier. Ek het sommer net jammer gevoel vir klein Sanja, so sonder ’n ma.”
“Ja, dis tyd dat Abel weer vrou vat. Maar soos ek hom ken, sal hy dit nooit
doen net om ’n ma vir Sanja te hê nie. Net liefde sal die ou tot trou bring.”

Sy woorde laat haar swaar sluk. Soek Abel iemand soos Sandria? Sy was
blykbaar sy groot liefde. Sy glimlag skeef. “Dink jy hy sal so iemand kry?
Iemand wat hy liefhet?”

Frank se oë gly oor haar en hy glimlag vreemd. “Hy moet net sy oë oopmaak.
Sy probleem is, hy probeer nie vrou soek nie. Hy moet net ’n bietjie rondkyk,
dan kry hy haar dalk gouer as wat hy dink.”

“O.” Sy kan om die dood nie aan iets beters dink om te antwoord nie.

“Abel is nou-nou hier. Ek gaan wag solank daar onder vir hom, dalk het hy
hulp nodig,” sê Frank sag en loop uit.

Sy kyk hom agterna. Regop, trots en baie manlik. En met ’n fyn aanvoeling
vir sy broer. ’n Goeie man met ’n goeie hart.

Gou hoor sy stemme nader kom.

Abel kom die kamer binne met ’n slapende Sanja in sy arms. Teer lê hy haar
neer, maak haar toe en vee die ligte haartjies uit haar gesig. Toe hy regop
kom en vir Helette kyk, is daar moeë lyne op sy gesig. Haar hart maak draaie
in haar binneste en sy het moeite om die skielike drang te onderdruk om hom
te troos.

“Kom,” sê Abel sag nadat hy ’n soen op Sanja se wang gedruk het.

Helette volg hom by die deur uit.

“Vera sal ook vannag hier moet slaap. Sy kan nie alleen by haar huis bly nie,”
vertel hy.

Sy kyk vlugtig na hom, want dit voel asof haar vel brand waar hy

haar arm vashou. “Wat het gebeur?”

“Ek sal nou-nou verduidelik,” sê hy moeg. “Help my net eers om Vera ook in
die bed te kry.”

Vera spring met wyd gerekte oë op en retireer toe Helette en Abel die
sitkamer binnekom. “Wat maak hierdie vrou nog hier, Abel? Ek het gedink jy
het haar al weggejaag. Sê sy moet loop. Ek wil haar nie naby my hê nie.”

Abel kyk verskonend na Helette. “Ekskuus, jong, ek het nie ’n kat se idee wat
hier aangaan nie. Ek sal haar maar alleen bed toe vat. Sy moet buitendien met
klere en al slaap, ek het nie nog aan nagklere vir haar kon dink nie.”

Verslae kyk Helette hoe Abel Vera aan die hand vat en al paaiend met haar
uitloop. Sy draai na Frank. “Wat op aarde gaan met die vrou aan? Ek weet sy
is nie gesond nie, maar om my so te verafsku …”

“Nee, knyp my blou, ek verstaan dit ook nie. Moet jou nie daaroor ontstel
nie. Dalk maar drogbeelde van haar verbeelding wat by haar spook.”

“H’m.” Sy sidder skielik. Dit voel eerder na ’n nare nagmerrie as die


werklikheid. “Dit laat my wraggies kriewelrig voel, dis so boosaardig.

Ek lyk tog nie na ’n krimineel nie, of hoe?”

“Onthou, dit kom van ’n vrou wat nie meer helder is nie,” troos Frank.

“Sy lyk nou rustig,” sê Abel moeg toe hy weer by hulle aansluit.

“Julle wonder seker wat aangaan. Ek skink vir ons ’n versterking.” Hy kyk na
Helette. “Wyn, brandewyn, whisky?”

“Eerder sjerrie, as jy het,” antwoord sy en gaan sit in een van die diep
leunstoele. Sy kies doelbewus nie die rusbank nie, bang Frank kom dalk
langs haar sit; dit sal ongemaklik voel in Abel se teenwoordigheid.

“Kom ons drink op ’n helse aand wat genadiglik verby is,” sê Abel toe hy
uiteindelik sy sit kry nadat hy die drankies geskink het.

“Gelukkig was ek daar en saam met Vera in haar kombuis. Dit was alles so
vinnig. Vera het daarop aangedring om vir my en Sanja Milo te maak. Sy
moet die gas te groot oopgedraai het want toe ek weer sien, dans die vlamme
op die stoof. Vader sy dank ek het dit geblus gekry.

Ek het net daar en dan besluit om nou my voet finaal neer te sit. Sanja bly nie
weer daar nie. En Vera kan beslis nie meer vir haarself sorg nie.

“Jy moet eintlik ’n hele glas brandewyn in jou keel afgegooi, Ouboet, vir die
skok. Daardie bietjie in jou glas is te min.”

“Toemaar, ek is reg.” Hy glimlag skeef en slaan sy oë ’n oomblik op.

“Dis net ’n genade dat alles nou onder beheer is en ek hulle veilig onder my
dak het.”

“Het Vera nie ’n huishoudster nie?” wil Helette weet. “Dié kan mos by haar
inwoon en help met haar versorging.”

Moedeloosheid gly oor Abel se gesig. “Dis juis die ding. Hulle kom en gaan.
Nie een kan dit lank by Vera uithou nie.”

Arme Abel, dink sy met ’n skielike deernis.

“En sy kom maar nie oor haar histerie met my nie?” vra Helette toe dit stil
raak tussen hulle drie.

“Jy herinner haar aan hierdie Gertruida, Helette. Ek glo nie sy het ooit haar
wrok teen Gertruida laat vaar nie.”

“Sjoe, dit is omtrent ’n nagmerrie.” Helette neem ’n sluk van die sjerrie en
voel hoe die hitte behaaglik deur haar liggaam versprei.

Skielik skiet ’n nuwe gedagte haar te binne. “Kan dit Vera se reaksie op my
wees wat veroorsaak dat Sanja nie van my hou nie?” Sy hou Abel gespanne
dop.

“Ek het al self aan die moontlikheid gedink,” knik Abel. “Maar jy kan
ontspan, ek dink Vera sal in die toekoms kalmer in jou teenwoordigheid
wees. Dit het al my geduld gekos om haar te oortuig dat jy nie Gertruida is
nie. Na baie redenasies het dit gelyk asof sy my begin glo.”

Helette speel ’n oomblik met haar hare en draai dit om haar vinger terwyl sy
diep dink. “Ek gaan in elk geval my hare sny en kleur om doodseker te maak
dit kry end,” kondig sy baie beslis aan.

“Nee!” kom dit gelyktydig uit albei mans se monde.

“Moet dit asseblief nie doen nie, Helette, ons het jou so leer ken met die lang
swart hare. Dit pas buitendien by jou oë,” pleit Frank.

Abel vou sy hande inmekaar terwyl ’n spier in sy wang spring. “As jy wil
sny, sny, moet net nie kleur nie.” Sy stem klink ietwat grinterig.

“Aan die ander kant, Vera moet doodeenvoudig leer saamleef met die besef
dat jy nie Gertruida is nie. Ek stem dus saam met Frank: moenie.”

Sy skrik vir die fladdering in haar bors toe sy in Abel sy grys oë kyk.

Het sy haar die kortstondige toegeneentheid in sy blik verbeel?

“Maar in elk geval,” sê Abel, steeds so koel soos die afgelope tyd, sy oë weer
so onpeilbaar asof hy dwarsdeur haar kyk, “ek gaan maar inkruip, ek sal nie
langer julle twee se spesiale aandjie bederf nie.”

Sy sal hom sowaar nie laat agterkom hoe teleurgesteld sy voel nie, besluit sy
daar en dan. “Reg. Lekker slaap,” antwoord sy so gelykmatig as wat sy kan.

NEGE

“Kan ek jou ’n oomblik spreek, Helette?” vra Abel toe hulle gelyktydig van
die ontbyttafel af opstaan. “Privaat, in my studeerkamer.”

Al weer so ernstig en formeel. Dis net hulle twee hier aan tafel, hoekom praat
hy nie sommer hier met haar nie? En hy het al weer daardie bekende frons
tussen sy oë. Haar wange brand opnuut toe sy sy opmerking van die vorige
aand oor haar en Frank onthou. Is dit waaroor hy wil praat? Sy trek haar rug
regop. Hy kan tog nie vir haar wil voorskryf saam met wie sy mag kuier nie.

“Hoor jy wat ek sê, Helette, of droom jy nog oor gisteraand?”

Sy knip haar oë. Sommer groot gruisklippe wat teenmekaar skuur, sy stem
wat so kwaad klink. “Ek het jou baie duidelik gehoor,”

antwoord sy afgemete. Sy word alewig in die studeerkamer berispe.

“Dis reg, ons kan praat.” Laat hom dan maar van sy griewe ontslae raak. Sy
loop voor hom uit studeerkamer toe, baie bewus van hom agter haar.

“Sanja gaan nie vandag kleuterskool toe nie. Sy slaap nog en ek wil haar nie
wakker maak nie, sy’t die rus nodig,” sê hy na hy die studeerkamerdeur
toegemaak het en haar na die kuierhoekie toe beduie het.

Sy oë is donkergrys soos stormweer en instinktief weet sy hier kom

’n moeilike ding. Benoud trek sy haar asem in en wag.

“Ek weet soggens is jou werktyd, maar mag ek ’n groot guns vra?”

Sy knik. O wee, wat kom nou?

Hy kyk pleitend na haar. “Sal jy asseblief vanoggend en vanmiddag na Sanja


kyk? Die kinderoppasser het, om alles te kroon, juis vandag nie opgedaag
nie.”

So dis die dilemma. Hoekom dan die privaat gesprek? Hy kon dit mos
daaraan die tafel gevra het. Is hy bang iemand hoor dat Sy Majesteit ’n guns
vra? Vir ’n oomblik smokkel ’n draakduiwel met haar kop en sy wil-wil dit
net oorweeg om te weier. Dan onthou sy weer dat hy haar werkgewer is en
haar brood en botter waarborg. “En as sy niks met my te doen wil hê nie?”

Hy krap sy kop en loer halfskuldig na haar. “Ek kan jou wed sy gaan uit jou
hand eet. Ek het gisteraand mooi vir haar verduidelik dat jy ’n goeie, liewe
tannie is, beslis nie ’n heks nie.” ’n Skelm glimlag kruip om sy mond.
“Trouens, ek het baie geheimsinnig probeer klink toe ek vir haar kamtig ’n
groot geheim vertel. Ek het gesê jy is eintlik die goeie fee van die
Aspoesterstorie. Jy moet haar gesig gesien het – die ene verwondering dat so
’n geluk haar kon tref.” Sy oë is weer helder toe hy terugsit.

Verbaas sit sy haar hand voor haar mond, maar kan nie die giggel onderdruk
nie. “Goeie fee? Goede genade. Ja, ek sal na haar kyk,”

antwoord sy, “maar as sy moeilik raak, bring ek haar universiteit toe, dan
moet jy haar maar daar in jou lesingsale en kantoor besig hou, of weer ’n
student nader hark om na haar te kyk.”

Hy hou albei hande op om haar stil te maak. “Jammer, jong, jy sal haar nie na
my toe kan bring nie. Ek is heeldag in die Botaniese Tuin.

Die minister van waterwese en omgewingsake gaan die Suid-Afrikaanse


Program vir Internasionale Biodiversiteit daar bekendstel.

Ek moet daar wees as omgewingsouditeur en ook om SWEM te


verteenwoordig. Daar sal kenners vanoor die wêreld hul waarnemings kom
doen.”

“Swem? Gaan daar ’n swemspan ook wees?” Nou toe nou, die man is
omtrent veelsydig.

“Nee, nee,” antwoord hy met ’n vonkeling in sy oë, “dis ’n vereniging


waaraan ’n paar ywerige omgewingsliefhebbers behoort en ek is die
voorsitter van hulle organiserende komitee. SWEM staan vir

Simbiotiese Wisselwerking tussen Ekologie en die Mens.”

“Nou toe nou,” sê sy verbaas, “nou leer ek ook weer iets.”

“Is dit dan in die haak?” Hy kyk haar afwagtend aan, die frons nou weg. “Dat
jy heeldag na Sanja sal kyk?”

Sy vergeet byna om te antwoord soos sy haar aan hom verkyk. Al weer kielie
dit oor haar rug as sy grys oë op haar rus. Vinnig knip sy haar oë om tot haar
sinne te kom en onthou dan dat hy vir haar antwoord wag. “Dis reg met my,
ek sal na haar kyk. Ek hoop net sy onthou vanoggend nog van die goeie fee.”
Fyn kreukels vorm langs sy oë. “Dankie. Gebruik maar jou towerstaf, dit kan
help.”

“Towerstaf?”

“Die sjarme waarmee jy mense, veral boet Frank, betower. ’n Fee het mos ’n
towerstaf.” Skielik is hy weer saaklik. “Gaan loer maar kort-kort of sy al
wakker is. En probeer Vera vermy. Netnou raak sy weer ontsteld. Bly vir eers
liewers uit haar pad.”

Dit doen sy met graagte. Onder geen omstandighede wil sy haar in Vera
vasloop nie. “Goed. Geniet die Botaniese Tuin.” Sy frons. “Kon ons nie in
die eetkamer gesels nie? Waarom so privaat?”

“Sodat ons nie dalk deur Vera onderbreek kon word nie. Of dat Frank …
Toemaar, vergeet dit.”

Hy staan op en sy liggaamstaal sê duidelik dat sy maar kan gaan.

Sy kan maar net haar kop skud toe sy onder sy oë uit is. Praat van ’n
ingewikkelde persoonlikheid. Sy wonder wat wou hy van Frank sê.

Die huis is grafstil. Waar Vera ook al is, weet Helette nie, maar dis nie haar
bekommernis nie, en om die waarheid te sê, sy gee ook nie om nie. Haar
werk is om na Sanja te kyk. Verlangend loer sy by haar ateljee in. Die
melodie van die beweging waaraan sy gister gewerk het, bly draai in haar
kop. Sy het dit gister vinnig genoteer en op haar

klavier klink dit heel goed, maar sy sou dit graag vanoggend op Abel se
vleuelklavier wou gaan toets. Hopelik kom sy môre daarby uit.

Met ’n boek in die hand loop sy na Sanja se kamer toe. In die deur steek sy
verskrik vas. Die kind staan op ’n stoel voor die spieëlkas en knip haar hare
met ’n groot skêr in ongelyke lengtes af dat dit lyk of dit deur ’n muis
geknaag is. Die twee grys oë glinster genotvol.

“Wat maak jy, Sanja?” vra sy sag om nie die kind skrik te maak nie.
“Ek moet soos Aspoester lyk,” antwoord sy ewe bedaard, sonder om haar oë
van haar spieëlbeeld af weg te neem, “want jy is die goeie fee.”

Genade, wat ’n redenasie tog. Maar ten minste beskou Sanja haar nie meer as
’n heks nie. Wat Abel hiervan gaan sê, weet nugter. Sy sal Sanja moet
haarsalon toe neem dat hulle kan red wat te redde is.

“Onthou jy die goeie fee het Aspoester in ’n prinses verander?”

Sanja knik blinkoog.

“Hierdie goeie fee gaan jou nou haarsalon toe neem dat hulle jou daar in ’n
prinses kan verander.”

“Jippie!” jubel die dogtertjie, sit die skêr op die spieëltafel neer en spring van
die stoel af. Sy lyk tog te koddig met die versnipperde hare aan die een kant
van haar kop terwyl die res van haar hare die oorspronklike lengte is.

Met Sanja aan die hand, gaan kry sy haar handsak. Dit sal seker die beste
wees om Sarie te vra om oor Vera ’n ogie te hou. Sy sien nie kans om self vir
Vera te gaan sê sy en Sanja gaan ry nie.

Sarie kyk stomgeslaan na Sanja toe hulle haar in die kombuis kry.

“Hierdie kind kort ’n ma,” sê sy kopskuddend. “Kyk net hoe lyk jou kop,
Sanjatjie,” raas sy.

“Ek het ’n goeie fee, Sarie,” vertel Sanja opgewonde.

“Ek ken net van kombuis uitvee,” brom Sarie vir Sanja. Sy knik vir Helette.
“Dis reg, ek sal na ouma Vera kyk.”

Helette sit en kyk hoe die haarkapster vinnig en vaardig sny en kam tot Sanja
uiteindelik met ’n pragtige, kort styl ewe spoggerig vir haarself in die spieël
kyk.

“Hou jy daarvan, Sanja?” Helette hou asem op vir die antwoord.

“Baie,” kom dit kort en kragtig. “Is ek nou ’n prinses?”


“O ja, ’n pragtige prinses,” verseker Helette haar. “Pappa gaan jou nie ken
nie, so mooi lyk jy.”

Skielik versomber die kind se gesiggie en haar onderlip bewe.

“Pappa gaan kwaad wees. Ouma Vera ook. Sy sê Mamma hou van lang hare.
Kan Mamma my ook nou sien?”

Helette buk by die dogtertjie en druk haar styf vas. “Ek dink jou pa gaan sê jy
lyk mooi. Miskien kan jou ma jou sien, en dan sal sy ook dink jy lyk mooi. Is
jy lus vir roomys?” probeer sy Sanja se aandag aflei.

In die restaurant smul Sanja aan die roomys. Hoe maklik raak ’n kind tog
getroos. ’n Vae onrus roer in Helette se binneste. Sê nou Abel is woedend oor
sy kind se hare? Maar wat anders kon sy doen? As hy die spektakel van Sanja
se poging moes aanskou, sou hy sekerlik dieselfde gedoen het. Gelukkig kom
hy eers vanaand huis toe.

Helette rek haar behaaglik uit terwyl sy Sanja dophou waar sy rustig sit en
inkleur. Sy het Sanja met inkleurboek en kleurpotlode na haar ateljee gebring
en kon só by haar werk ook uitkom. Noudat die ys tussen haar en Sanja
gebreek is, sien sy weer kans vir die kind. Sy sal na die drie maande vir hom
sê sy sal aangaan. Om weer met ’n nuwe au pair te begin, kan die dogtertjie
van voor af ontwrig.

Sy skrik haar oor ’n mik toe twee warm hande haar oë skielik toedruk.
“Hallo, skone dame. Raai, raai wie?” klink Frank se warm stem by haar oor.

“Hoef nie eens te raai nie, net een man het so ’n stem.”

“So ’n antwoord vra vir ’n soen.”

Voor sy kan keer, trek hy haar in sy arms in en plant ’n sagte soen op haar
voorkop, toe ’n piksoen op die punt van haar neus voor sy lippe warm op
haar mond neerkom.

Oorbluf probeer sy losbeur, maar hy lag net uitgelate en soen haar weer. Hy
is maar net in ’n vrolike bui en die omhelsing is doodonskuldig, sê sy vir
haarself.

“Helette, ek is terug en … goeie genugtig, sommer so voor my kind!

Gaan vry asseblief in die toekoms waar julle privaat is,” sê Abel skielik hier
by hulle, sy stem yskoud.

Helette se wange brand van verleentheid. Nou maak hy weer verkeerde


afleidings.

“Ag nee, maggies, Ouboet, moet jy ’n man se plesiertjie so kom bederf.”


Frank loer onder sy wenkbroue vir Abel, maar sy oë vonkel vrolik.

Abel gluur terug. “As jy op verkeerde plekke en tye wil vry, ja.” Sy oë draai
beskuldigend na Helette. “Sover ek weet, is dít nie deel van jou dienskontrak
nie … om ’n vryer in werktyd te onthaal nie.”

Kan jy nou meer, dink Helette gebelg. Sy is mos darem nie ’n skooldogter
wat op die skoolterrein in ’n omhelsing met ’n kêrel betrap word nie. Sy het
hom vandag ’n yslike guns bewys om buite haar ure na Sanja te kyk. ’n Vae
gedagte bekruip haar. Is Abel nie dalk werklik jaloers nie? Maar sy wil nie
haar hoop daarop vestig nie. “Die dag het buitendien nie volgens my
dienskontrak verloop nie. Ek het oortyd gewerk.” Sy kyk hom uitdagend aan.
Laat hom ’n bietjie van sy eie medisyne proe, dink sy moedswillig.

“En ek sal jou vir oortyd vergoed,” hap hy terug. “Eintlik het ek my dogter
kom soek. Ek loop nou, dan kan julle verder vry.” Hy loop na Sanja toe, maar
steek skielik in sy spore vas en kyk met vernoude oë na Helette. “Wat het jy
met my kind se hare gedoen?” wil hy koud weet.

“By ’n salon laat sny.” Sy sal hom beslis nie vertel waarom dit gedoen is nie.
Hy behoort tog te weet sy sal nie sonder rede so iets doen nie.

“Doktor Boshoff, ek het jou gehuur om na my kind te kyk. Om dit vir jou uit
te spel: om my kind op te pas, nie om buite perke allerhande dinge met haar
aan te vang nie. Jy kon my ten minste gevra het voor jy sulke drastiese dinge
doen.”
Hy raap Sanja van die mat af op en begin uitstap.

“Demmit, Ouboet, nou’s jy skoon onredelik!” roep Frank agter hom aan,
maar kry geen antwoord nie.

Met sy hande op Helette se skouers, kyk hy be rouvol na haar.

“Jammer, Helette, ek’t jou nou al weer in die moeilikheid. Ou Abel is


sommer onnodig beneuk.” Hy lag vrolik. “Moet tog nie dink ek is ongevoelig
om te lag nie, maar ek kan jou wed my ouboet is groen van jaloesie. En die
snaaksste is, hy besef dit nie eens nie. En bid jou dit aan, hy ‘doktor’ jou,
maar noem in dieselfde asem dat hy jou gehuur het. Het hy ooit ’n idee hoe
dit klink?”

Sy moet teen wil en dank saam lag. Ja, dit is nogal ’n teenstelling.

“Dankie vir jou troos, Frank, maar sal jy my asseblief verskoon, ek wil nou
net alleen wees.”

Hy knik begrypend. “Tap vir jou warm badwater in, dit sal jou laat ontspan,
en ondersoek dan ook sommer jou eie hart. Lyk my ek sal tog moet Kupido
speel.” Hy lag sag en stap weg.

Sy kyk hom agterna. Goeie ou Frank. Wat sou regtig in sy binnewêreld


aangaan? Sy wonder nog steeds wat hom Oukersaand in so ’n toestand gekry
het. Noudat sy daaraan dink, hy praat nooit oor homself nie, en dit lyk nie of
daar enige spesiale vrou in sy lewe is nie.

Dan praat hy van Abel wat moet vrou vat. Wat van hom self?

Onwillekeurig kom Abel se blitsende oë weer by haar op. Hy laat haar


gedurig verstaan dat sy hom nie aanstaan nie en dit laat weer ’n hele orkes in
haar los. Iets van Bach en Beethoven wat in haar binneste

klink en mekaar koggel. Sy sug. Frank sê sy moet haar hart ondersoek.

Sy vermy dit juis om te diep in haar siel te delf. Netnou ontgin sy dalk iets
wat eerder moet bly. Waar is die dae toe sy vir geen man in haar lewe plek
gehad het nie! Sy was tog dolgelukkig. En jy het nie geweet wat jy mis nie,
terg die stem in haar kop.

TIEN

Dit lyk asof die reën wat deur die weerburo voorspel is, enige oomblik in vlae
oor die stad kan uitstort. En dit pas perfek by haar gemoedstoestand, meen
Helette en vou haar arms terwyl sy buitetoe tuur. Sy word sommer opnuut
siedend kwaad as sy aan Abel se aanmerkings oor haar en Frank dink. En sy
beskuldigings teenoor haar oor Sanja se hare. Deksels. Maar nou ja, die dag
het begin en sy moet aan die gang kom. Sanja moet by die skool kom. Dankie
tog haar en Sanja se verhouding is uiteindelik genormaliseer. Nou hoef die
kinderoppasser nie meer elke keer saam te ry nie.

Sanja lyk sowaar bly om haar te sien en spring uit haar bedjie.

“Môre, goeie fee,” groet sy vriendelik.

“Ja dag, Aspoester,” beantwoord Helette die spontane groet en kry solank
klere uit die kas. Die kind het baie klere en van goeie kwaliteit.

Seker Vera se werk, toe sy dit nog kon behartig. In ’n ommesientjie is Sanja
klaar aangetrek en sit sy reg dat Helette haar hare kan kam.

“Kom sit hier voor die spieël dan wys ek jou hoe maklik is dit nou om jou
hare self netjies te borsel, San,” gesels Helette gesellig terwyl sy die blonde
haartjies liggies borsel tot dit blink. Toe gewaar sy Abel in die spieël waar hy
in die oop kamerdeur agter hulle teen die kosyn geleun staan. Daar is ’n
sagte, teer uitdrukking op sy gesig. Sy trek haar asem stadig in. Dit lyk nie
asof hy van haar bewus is nie, sy oë is net op Sanja gerig. Dis asof hy in
hierdie onbewaakte oomblik sy sagte kant, wat hy so deeglik in toom hou,
vrylaat. Helette kan sien hy weet steeds nie sy het hom gewaar nie. Dit voel
asof ’n duif met ligte vlerkfladdering in haar binneste kom sit en sy weet dis
die man wat sy graag sal wil leer ken: hierdie sagte een. Hoekom hou hy sy
ware self
so toegeskulp? Hoekom altyd so bang om emosie te wys?

Sy skrik vir haar gedagtes. Hier staan sy en drome droom oor Abel en hoe sy
hom graag wil leer ken. Netnou wag daar net seerkry vir haar.

Met mening dwing sy haar gedagtes terug na Sanja toe. “Daar’s hy, fielafooi,
jy lyk soos ’n prinses. Kom laat ons weg wees, dit word laat.”

“Nie so haastig nie,” klink sy stem sag terwyl hy nader kom. “Ek moet met
jou oor ’n paar sake praat. Sarie het my vertel wat gebeur het met mejuffrou
se kapsel. Ek het jou oorhaastig beskuldig en vra verskoning vir gisteraand;
ek was ’n regte buffel.”

Helette plaas haar hande in haar sye en kyk hom deurborend aan.

Maklik sal sy dit nie vir hom maak nie, daarvoor was die vernedering te
groot. “Luis. Lae lak. Ek kan aan baie ander name dink wat ek jou kan noem
oor gisteraand, maar ‘buffel’ kan ook gaan.” Die skielike vonkeling in sy oë
maak haar siedend kwaad. “Jy het gisteraand gesê jy het my gehuur om na
jou kind te kyk. Wel, luister nou mooi, ek is niemand se huurling nie. Onthou
dit baie goed,” gaan sy gal af. Met haar wysvinger op hom gerig, tier sy
verder. “Sover ek weet, het jy my in diens geneem, nie gehuur nie. Ek is ’n
tydelike werknemer en jy is my werkgewer, nie my baas nie. Daar is ’n
linguistiese verskil. En moenie vergeet dat ek buite my werkure aan diens
was nie.”

Oombliklik kry sy gesig weer die granietuitdrukking. “As jy mooi daaroor


dink, sal jy onthou dat ek aan die begin al gesê het daar kan soms
uitsonderings wees, na gelang van omstandighede.”

Natuurlik onthou sy dit baie goed en sy is nie een wat teruggaan op haar
woord nie. Sy knik. “Dis reg, ja. Ek sal by daardie deel van ons ooreenkoms
hou, my woord is my eer, maar ek herhaal: Ek is nie jou huurling nie.”

“Nou oorreageer jy heeltemal. Jy weet tog goed genoeg dis nie hoe ek dit
bedoel het nie,” antwoord hy styf.

Sy verstaan dit nie. Van sy hier in sy huis is, spat die vonke gedurig
tussen hulle twee. Sy is nie ’n bakleierige mens nie en het nog altyd in vrede
met haar medemense geleef, maar hierdie man kry dit telkens reg om haar om
te krap en die slegte in haar na vore te bring.

“Goed, dan is die saak seker afgehandel en verstaan ons mekaar. Ek en Sanja
moet buitendien wikkel,” beëindig sy die gesprek.

Met Sanja aan die hand begin sy deur se kant toe loop.

Hy staan egter die hele deur vol sodat sy nie kan verbykom nie en sy ruik
weer die suurlemoengeur. “Nie so haastig nie,” keer hy, “daar’s nog iets.”

Sy vries in haar spore. Ag nee, maggies, wat kan dit nou wees? As Abel sy
mond oopmaak, is dit deesdae moeilikheid.

“Ek wou gisteraand al sê, maar toe was dit so … aag, jy weet mos

…” ’n Skuldige uitdrukking glip oor sy gesig.

“Wat? Ek bedoel, wat wou jy gisteraand sê?” Natuurlik weet sy mos hoe dit
die vorige aand was.

“Ek moet Lakenvlei toe, saam met die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, TBN,
om die biodiversiteit te gaan waarneem. Vleilande is die kruispunt van
biodiversiteit, waar voël-, water-en plantlewe, asook lewe op land
bymekaarkom.”

“Klink interessant. Gaan gerus, jy hoef nie oor Sanja te bekommer nie, ek sal
mooi na haar kyk. Hoe lank gaan jy weg wees?”

“So ’n paar dae.” Hy druk sy hande in sy broeksakke en lyk skielik onseker


en verleë. “Ek wil jou en Sanja graag saamneem. Ek sal in Dullstroom vir ons
plek by ’n vakansieoord bespreek.”

Voor sy kan keer, snip sy hande in die sye: “Jy bedoel seker jy wil Sanja
saamneem en ek moet saam om na haar te kyk?”

’n Rooi gloed kruip teen sy nek op. “Nee.” Sy stem is weer gevaarlik laag.
“Ek wil hê jy moet die vleiland beleef. Daar is werklik geen bymotiewe van
enige aard nie.” Hy vryf halfmoedeloos oor sy voorkop.

“Daar sal wel rukke wees wat jy en Sanja alleen sal wees, want as voorsitter
van SWEM gaan ek saam met TBN in sitting wees om die

kwessie deeglik te bespreek. Ek sal bly wees as jy dan ’n wakende oog oor
Sanja sal hou.”

Sy dink ’n oomblik. Dit klink asof dit nogal lekker kan wees. “Wat van
Vera?”

“Ek sal by die Organisasie vir Bejaardesorg uitvind of hulle van iemand weet
wat by haar sal kom bly.” Kommerplooie padkaart oor sy voorkop.

“Ek het ’n beter plan.” Gonnatjie, het sy nie nou te gou begin praat nie?
wonder sy benoud, maar druk tog deur. “Ek kan my ma vra om na haar te
kom kyk. Sy was jare lank ’n verpleegsuster.”

’n Glimlag verhelder Abel se gesig. “Dit klink na die antwoord,” sê hy


spontaan. “Ek sal baie meer gerus voel met jou ma hier in plaas van

’n wildvreemde vrou.”

“Ek sal haar sommer nou bel.” Sy kan maar net hoop ma Marna sal inwillig.

“Met graagte, my kind,” antwoord haar ma vol entoesiasme. “En ek bring


sommer ’n klein Maltesie saam vir die vrou. Daar word mos beweer
troeteldiere het groot terapeutiese waarde vir bejaarde mense.

Ek is lankal lus vir ’n bietjie wegkom hier uit my eie plek.”

Dis sowaar ook net ma Marna wat aan so iets sal dink – ’n troeteldier.
“Dankie, my ma.” Met deernis onthou Helette hoe ma Marna altyd daar was
vir haar, altyd bereid om te help. Dis by haar wat sy geleer het mens probeer
eers jou wa self deur die drif trek voor jy rondkyk vir hulp. Swem so al wat jy
kan, eers as jy voel jy kan nie meer nie, kan jy om hulp skree.

Met Sanja in die skool, kan sy die volgende oggend baie nuttig gebruik om
haar simfonie te verfyn. En toe dit tyd is om Sanja te gaan haal, tel sy met ’n
tevrede glimlag haar motorsleutels op en stap uit.

Buite keer Frank haar voor toe sy motorhuis toe stap. Hy neem haar

aan die skouers en sy oë kaart haar gesig asof hy elke detail wil inneem. “Het
ek reg gehoor dat jy saam met Ouboet Dullstroom toe gaan?”

“Ja, ek moet saam om na Sanja te kyk. Hoekom vra jy?”

“Dis ’n rookskerm. Dis ou Abel se plan om jou van my af weg te kry. Ek het
jou mos gesê hy is jaloers. Hy soek ’n bietjie alleentyd saam met jou.” Frank
knipoog kameraadskaplik.

Sy gaap hom aan. Ken hy sy broer so goed dat hy bymotiewe aan Abel kan
toedig? Sanja gaan saans vroeg slaap, dan sal sy en Abel alleen wees. Al
droom sy hoeveel drome oor hom, weet sy nie mooi of sy daarvoor kans sien
nie.

“Hoekom kom jy nie ook saam nie?” nooi sy Frank impulsief maar skrik
onmiddellik toe sy besef hoe ondeurdag dit is. En sy kan nie nou die
uitnodiging terugtrek nie. Abel gaan bitter ontevrede wees. Sal sê sy kon hom
eers geraadpleeg het. Sy hou haar duime styf vas in die hoop dat Frank nie
haar uitnodiging sal aanneem nie.

Sy oë blink. “Wat ’n gawe idee. Ek kan my verf en kwasse saamneem en ’n


landskap begin skilder, dis juis so mooi daar. Wanneer ry julle?”

“Môremiddag. My ma kom môreoggend deur om by Vera te kom bly. Ons ry


net na middagete.”

“Nou maar laat ek my kwaste gaan skoonmaak en ’n doek regkry.”

Sy oë blink en hy loop haastig terug kothuis toe.

Met onrus in haar gemoed ry sy kleuterskool toe. Sy sal maar moet sien op
wat ’n ruwe strand spoel hierdie wending haar uit. Kon sy nou nie maar haar
mond gehou het nie? As Abel vir Frank saam wou hê, sou hy hom seker
gevra het.
Die blydskap waarmee Sanja haar tegemoet hardloop, verwarm haar hart en
verdryf die onrus tydelik. Dis so lekker as die twee kinderogies vol vertroue
na haar kyk. Hierdie nuwe verstandhouding voel vir Helette sommer na ’n
groot oorwinning.

Nadat sy haar tas gepak het, gaan sy na Sanja se kamer om haar klere ook in
te pak. Sanja sit by haar op die bed en hou noukeurig toesig oor watter klere
ingepak moet word. Die kind het haar eie smaak en laat nogal haar wil geld.
Tipies haar pa, kan Helette nie help om te dink nie.

“O, hier is julle.”

Helette swaai verskrik om toe sy Abel se ysige stem hoor en sy sluk hard aan
die benoude knop in haar keel. As sy ooit gedink het hy kan frons, kom dit
nie naby aan wat sy nou sien nie. Hy is kwaad.

Woedend, siedend, boosaardig kwaad. Sy wag in spanning. Wat op aarde is


dit nou?

“Pappa, het jy seergekry?” Sanja storm op Abel af en gryp hom aan die bene.

Selfs sy kind kan sien hy is nie homself nie, kom dit vlugtig by Helette op.

“Nee, pop. Speel jy nou soet hier in jou kamer, Pappa wil met tannie Helette
praat.”

Iets van die erns van die oomblik moet Sanja seker begryp het, want sy knik
gedweë en klouter weer terug op die bed. Met sy oë beduie Abel vir Helette
dat sy saam met hom moet kom.

“Wat het jou besiel!” raas Abel toe hulle ’n ent weg is. “Jy’t al weer
ingemeng in my sake.”

“Frank?” vra sy versigtig.

Hy vou sy arms, frons hewig en skud sy kop. “Ja, Frank. As ek my broer wou
saamvat, sou ek hom gevra het. Toe gaan staan en nooi jy hom sommer. Ek
kan nie nou vir hom sê hy kan nie saam nie. Maar dit wás nie deel van my
beplanning nie.”
Is dit nou so erg om sy broer saam Dullstroom toe te neem? “Ek is jammer,
Abel, dit was impulsief van my.”

“Impulsief. Ja, beslis. Liewe land, Helette, mens verwag meer


verantwoordelikheid van jou.” Sy oë pen haar vas. “Mens dink tog

voor jy praat,” voeg hy by.

Impulsief. Ongelukkig moet sy toegee dat hy reg is. Hoe dikwels was sy nie
op skool juis daaroor in die moeilikheid nie. Ja, sy doen soms dinge voor sy
goed daaroor nadink. “Ek verstaan net nie hoekom Frank se teenwoordigheid
ongewens gaan wees nie. Jy behoort eintlik bly te wees dat hy my en Sanja
kan geselskap hou terwyl jy saam met die klomp groenes makietie.”

Abel se oë vernou. “A ha, dan is dit die ware rede? ’n Lekker kans vir jou en
Frank om te kafoefel.” ’n Siniese trek gly om sy mond. “Ek weet lankal dis
hoe die wind waai. Nou goed, jy en Frank sal genoeg tyd vir ’n vryery onder
die sterre kan inkry. Ek …”

“Vryery? Is jy nou gek?” ’n Koppigheid spring skielik in haar kop.

As hy dan so dink, sal sy hom verder op sy dwaalweg lei. “Ja, ek is bly Frank
gaan saam, want ek wil hom graag beter leer ken.”

Jig, sy raak al hoe dieper in die verknorsing. Het al weer gepraat sonder om te
dink. Nou glo hy natuurlik daar is iets tussen haar en Frank aan die broei. Dit
sal hom net meer afsydig teenoor haar maak.

“Dankie, ek kry die boodskap.” ’n Spier spring in sy wang en hy druk sy


vuiste in sy broeksakke dat dit twee bulte langs sy heupe vorm.

“Ek wou maar net gehad het Frank moet hier wees om jou ma met Vera by te
staan, anders het ek hom self saamgenooi. Of jy dit wil glo of nie, ek is lief
vir my kleinboet.”

Sy kan hom nie glo nie, dit klink te veel na ’n skielike verskoning.

As hy maar weet hoe sy hom beny. Om ’n broer te hê … Dis darem jammer


ma Marna kon nie kinders hê nie. Tog moet sy seker bly wees daaroor, want
dan het ma Marna en pa Paul haar nie aangeneem nie.

Waar op aarde sou sy haar dan bevind het? Dalk was ’n kinderhuis dan haar
voorland.

Dis of haar veglus skielik geblus is. “Jy hoef nie oor my ma te bekommer nie.
Sy bly al jare alleen en raak nie sommer paniekerig as krisisse opduik nie,” sê
sy so kalm moontlik. “Ons moet net sorg dat sy

die polisie en nooddienste se nommers byderhand het.”

“As jy so sê, is dit seker maar reg. Jy ken jou ma tog beter as ek.

Kan ek nou maar jou en Sanja se goed gaan inlaai?”

“Ons tasse is gereed,” antwoord sy styf. “My ma sal seker ook enige oomblik
hier wees.”

Verbaas kyk Helette op toe haar ma skielik in haar kamerdeur verskyn met ’n
piepklein, wollerige wit hondjie in haar arms. “A, hier is Moek.”

Sy loop nader, soengroet haar en vat die hondjie by haar. “Hallo, jou ou mooi
dingetjie,” kloek sy en hou die hondjie in die lug op. “Het jy saam met my
ma kom kuier?”

“Sy naam is Woelie, want hy kan omtrent woel. Dis ’n geskenk vir Vera, om
haar te kalmeer. Mense besef nie altyd wat ’n kalmerende effek troeteldiere
het nie.”

Daar was altyd troeteldiere in hulle huis, onthou Helette. Dit was ook na pa
Paul se dood haar ma se redding. Sy kyk na die tenger vrou voor haar. Mense
misgis hulle maklik met haar brose voorkoms; in werklikheid is sy seningtaai
van liggaam en gees. Moeilike situasies kry haar nie sommer onder nie.

Ma Marna is soos altyd informeel geklee in ’n kakielangbroek en tamatierooi


T-hemp. Haar oë rus sag op Helette. “Ek het klaar die twee broers hier buite
gegroet. Hulle sê julle ry net na middagete.”
“Dis reg, ja, die viertrek is klaar gelaai, net reg vir die pad. Kom ek help gou
Ma se goed indra.”

“Nee wag, my kind. Ek wil eers vir Abel oorreed dat ek Vera by haar huis
kan gaan oppas. In haar eie omgewing gaan sy die rustigste wees.

Ek en sy sal ook na ete vertrek.”

Helette glimlag van lekkerkry. As Abel gedink het sy is eiesinnig, het hy nog
nie met ma Marna te doen gekry nie.

“Ek gaan solank vir Vera die hondjie wys en haar goed pak. Kom jy

saam?” Ma Marna kyk vraend na Helette.

“Ma weet mos hoe reageer sy as sy my sien. Gaan liewer alleen, ek het nie
lus vir haar dramas nie.”

Haar ma knipoog. “Dis juis een van die ou sakies wat ek wil uitpluis wanneer
ek alleen met Vera is. Ek gaan meer oor Gertruida by haar probeer uitvind.
Dit wil sê as sy nog iets onthou.”

Toe ma Marna uitstap, skud Helette net haar kop. Haar ma is kapabel en krap
al die geraamtes oop.

Etenstyd sit Vera sowaar aan tafel met Woelie op haar skoot en ’n ongewone
rustigheid in haar oë. Klaar geheg aan Woelie. Toe Helette in Frank se rigting
kyk, knipoog hy ondeund vir haar. Natuurlik baie in sy skik dat hy saamgaan.
Sy loer na Abel. Hy het dit gelukkig nie gesien nie. Hoekom is sy so verlig
daaroor? Dit het mos niks met hom te doen as Frank vir haar knik nie.

“Ek gaan kry gou ma Vera se goed, tannie Marna, dan kan julle aan die ry
kom,” sê Abel na ete. “Dis ’n briljante gedagte om haar in haar eie huis te
gaan oppas.”

Helette kyk verbaas van Abel na ma Marna. Dit lyk asof haar ma Abel reeds
om haar pinkie draai. Sy lig haar wenkbroue vraend vir haar ma, maar kry net
’n skouerophaling en twee vonkelende blou oë as antwoord.
“Haai, ou mooistetjie, moenie so frons nie,” sê Frank toe Abel weg is. “Dink
liewer aan die heerlike tyd wat voorlê.”

Ma Marna kyk verbaas na Frank en dan na Helette. Die aanspreekvorm het


haar nie verby gegaan nie en Helette kan net raai wat nou in haar ma se
gedagtes omgaan.

Na ete stap Helette en die twee mans saam buitetoe om die twee ouer vroue
af te sien. Vera lyk doodtevrede met die hondjie styf in haar arms. Helette is
nog steeds verbaas dat die vrou so kalm is.

Toe die twee vroue buite sig is, raak Abel ook haastig en wil-wil sy humeur
verloor met Sanja, wat nie aan die gang kan kom nie. Na groot

gesukkel om haar aan die beweeg te kry, kom hulle uiteindelik sover om te
ry. Abel se gesig is die ene onweerswolke toe hy die motor aanskakel. Frank
lyk soos ’n kat wat ’n enorme piering room gekry het waar hy vrolik agter
langs Sanja sit.

Regte karnallie, dink Helette geamuseerd.

ELF

Mistigheid hang oor die vlei in die vroeë oggend en Helette is dankbaar vir
die ligte jekker wat sy aanhet. Die oggendluggie is koel. Gelukkig het sy
Sanja kon oorreed om ook iets warmers oor haar T-hemp aan te trek.

Dit was ’n heerlike verrassing toe Abel gistermiddag laat van die Vleiland-
bewaringskonferensie af teruggekom het met die nuus dat hy hulle vandag
gaan saamneem wanneer die Trust vir Bedreigde Natuurlewe by Lakenvlei
gaan waarneming doen.

“Wonderlik, dan neem ek my sketsboek saam.” Entoesiasme het in Frank se


stem deurgeslaan toe hy daarvan hoor.

Met sy hande in sy sye het Abel verbaas gefrons. “Jy het dan gesê jy is besig
met ’n skildery van die foreldamme hier naby. Gaan jy nie verder daaraan
werk nie?”

Frank het sy broer stil betrag. Toe daag daar skielik ’n lig van begrip in sy oë.
“Hoekom sê jy nie eerlik jy wil my nie saam hê Lakenvlei toe nie, Ouboet?”

Helette onthou ook goed dat dit die eerste keer was dat sy Frank kwaad
gesien het. Sy hande was in vuiste geklem en sy mond was ’n dun lyn. Die
twee broers moet nou alleen gelaat word, het sy besef, Sanja aan die arm
beetgekry om saam met haar buite te gaan rondloop.

Sy was so jammer vir Frank. Kon Abel hom dit nie maar gegun het nie?

“Toemaar, Helette, jy hoef nie te vlug nie,” het Abel gekeer en sy stem het
weer normaal geklink. Die vuur in sy oë was skielik geblus toe hy vir haar
kyk. Na ’n oomblik het dit weer sag grys gelyk, asof sy blik ’n boodskap na
haar toe wou oorsein; ’n boodskap wat sy eenkeer

tevore al in sy oë gewaar het. Dit was so kortstondig dat sy haar dit kon
verbeel, maar dit het ’n vreemde uitwerking op haar.

Soos ’n rolprent wat vir ’n oomblik gestol het en dan weer verder aangaan,
het Abel skouerophalend vir haar geglimlag, asof hy verskoning wou vra en
toe weer na Frank gekyk. “Jammer, ou broer, ek het gepraat sonder om te
dink. Natuurlik wil ek jou saam hê. Jy kan vir ons wonderlike sketse van die
voëls gaan maak.” Hy het Frank se skouer ’n innige druk gegee en toe
uitgestap buitetoe.

Helette vryf oor haar oë om haar gedagtes van daardie gebeure te probeer
bevry. Die twee broers is albei vanoggend buitengewoon gesellig met
mekaar. Abel lig nie ’n wenkbrou oor Frank haar hand vashou nie. Hoe sy
ook al probeer om haar hand te bevry, is ’n onnutsige glimlag van Frank al
wat sy kry. Wel, dis duidelik dat dit Abel nie raak nie, waarom sal sy dan nie
Frank se aandag en vriendskap geniet nie?

Frank is aangename geselskap. Maar dis al. Haar hart is by twee staalgrys oë
met die frons. Sy het al baie gewens sy kon die alewige frons wegstreel.
Helette trek haar asem in toe die son opkom en rosige tinte oor die landskap
gooi. Haar gedagtes dwaal weer na Abel en Frank. Ten spyte van bolangse
struwelinge is daar ’n innige band tussen die twee broers.

Sou daar ook so ’n band tussen haar en Sandria kon ontstaan as hulle mekaar
geken het?

Hulle vier het begin agter raak by die res van die bewaringsgroep omdat
Sanja se beentjies nie so vinnig kan byhou nie. “Dis beter so,”

meen Abel, “mens moet stadig loop, alles inneem, anders mis jy dalk iets.
Nee, Sanja, moenie pluk nie,” keer hy toe Sanja buk om veldblommetjies te
pluk. “Kom ons kyk eerder hoeveel soorte sien ons.”

’n Liefdevolle pa. Helette kan die innigheid in sy stem hoor. Sy gesig lewe
behoorlik terwyl hy met Sanja besig is. “Sien jy die vleilelies,

San? En hierdie is grasorgideë,” vestig hy haar aandag op die fyn blomme


tussen die gras.

“Hierdie lyk na ’n madeliefie.” Helette kyk na Abel om te sien of sy reg is.

Hy glimlag warm. “Doodreg. Jy sien mos die tipiese madeliefieblaartjies.


Maar hier is nog baie meer om na te kyk en op ag te slaan. Julle moenie
vergeet om te luister na die voëls en te kyk of julle hulle sien nie,” sê hy sag.

Die son kleur sy hare goud, sien Helette so tussendeur.

“Staan stil,” fluister Frank. “Sien julle die mahem?”

“Sjuut, Sanja.” Abel tel haar op. “Sien jy daardie groot voël met die mooi
goue kroon?”

Sy knik. “Ek wil hom hê.”

“Nee, my kind, hierdie vlei is sy huis. Ons kan net na hom kyk.”

“Julle kan maar verder loop, ek bly net hier. So ’n kans kry ek nie aldag nie,”
fluister Frank terwyl hy sy seilsak se gespes oopmaak en kwaste en waterverf
begin uithaal. “Henges, ek is bly ek het saam gekom.” Sy bruin oë boor weer
’n oomblik in Abel s’n. “Ek sou vrek baie gemis het, nè?”

“Ek’s bly jy het saamgekom, Frankie.”

Frankie? Helette kyk verras na die twee en besef dis seker ’n aanspreekvorm
uit hulle kinderdae. Weer sy sagte kant wat deurskemer, die kant van sy
persoonlikheid wat hy baie min wys. Soos meeste mans het hy seker ook
grootgeword met die persepsie dat manlikheid gemeet word aan krag, dat ’n
man nie emosie moet wys nie. En dis juis hierdie skrefie deernis wat hy
deurlaat wat haar diep raak. Eerder as sy fisieke aantreklikheid, is dit al meer
sy sensitiewe siel wat hy in onbewaakte oomblikke blootstel, wat ’n impak op
haar het en haar oorrompel. Natuurlik ook sy intellek, want hy gesels met
gesag oor ’n wye spektrum onderwerpe.

Is haar toekomsdrome om ’n groot komponis te word nog haar

hoogste prioriteit? Weer sit sy tussen twee vure: haar rede en haar hart.

Vir die eerste keer in haar lewe hunker sy na die volle vervulling van haar
vrouwees. Moet mens jou drome prysgee vir ’n man en gesin?

worstel Helette met haarself. Moet mens noodwendig ’n kluisenaarslewe voer


om groot kuns te produseer?

Skielik pak ’n koue vrees haar. Haar biologiese pa het sy vrou se hart gebreek
deur ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop, net om die jongmeisie met
geld uit sy lewe te weer en haar aan haar lot oor te laat. Sy dra hierdie
onbekende man se gene in haar. Sê nou sy aard ten volle na hom? Sy wens sy
kon weet hoe ’n soort mens haar eie ma was.

Iemand wat te maklik vertrou het? Dit was nog altyd haar vermoede.

Dis dan seker die rede waarom sy haarself in die verlede daarteen gestaal het
om ’n man onvoorwaardelik te vertrou. Om seker te maak sy loop nie
dieselfde pad as haar biologiese ma nie.

Ag, dis so kompleks. Buitendien sal dit seker net by drome bly, want Abel
het nog nooit laat deurskemer dat hy haar in ’n ander lig sien as sy dogter se
au pair nie.

“Hou op droom, Helette, dat ons kan aanstap,” dring Abel se stem tot haar
deur. “Soos ek Frank ken, gaan hy hier sit tot laat.” Sy oë gly oor haar. “Dis
goed jy’t ’n kortbroek aangetrek en ou seilskoene, ons gaan deur verskillende
sones van die vlei stap. En dit kan goed modderig word.” Hy tel Sanja op.
“Kom, jou pa dra jou, my kind, jy gaan sukkel hier.”

Hulle sloesj-sloesj deur die nattigheid tot hulle later halflyf in die water by
die res van die groep aansluit.

Daar skuil tog nog ’n kind in elkeen van ons, dink Helette verwonderd toe dit
in ’n vrolike speletjie ontaard. Sommer gou is sy en Abel deel van die pret en
rol hulle ook veenballetjies om mekaar mee te gooi, Abel met Sanja op sy een
arm. En net soos kinders, moet die speletjie ook verder gaan toe hulle mekaar
se gesigte vol donker veenstrepe verf.

“Lekker, lekker!” gil Sanja uitbundig.

Abel kry Helette met sy los arm in ’n knelgreep beet. “Smeer tannie Helette
se gesig, Sanja,” spoor hy sy kind aan en lag luidkeels toe sy proesend teen
Sanja se aanslag worstel.

Wegkom is daar nie uit Abel se staalgreep nie, al spartel sy hoe, hy druk haar
net stywer teen hom vas. Sy vee haar gesig laggend aan sy hemp af. Tussen
die pret deur bly sy deeglik bewus van sy arm om haar, ruik sy hom en voel
sy liggaamshitte teen haar T-hemp waar die jekker, voor oopgeknoop, van
haar lyf af wegval. Vuur brand in haar binneste.

“Eina, Pappa druk my te seer,” kom Sanja tot haar redding.

“Skuus, my pop.” Abel los Helette dadelik en vryf Sanja se beentjies.

“Ons moet ook teruggaan.”

Dis asof almal nou uitgespeel raak, merk Helette toe die ander mense ook
begin terugdraai. Sy loop moeisaam deur die modder.
Abel steek sy hand na haar toe uit. “Gee jou hand, voor jy in die modder val.”

Dankbaar aanvaar sy die aanbod en sit haar hand in syne, voel die stewige
greep. “Dankie, dis tonne beter.” Waarom moet haar stem nou so hees klink?
Sy hand voel warm en benerig en sy bly bewus daarvan.

Veilig. Dis hoe dit haar ook laat voel. Sy sal nie sommer val met haar hand in
syne nie.

Só moet Sandria seker ook by hom gevoel het.

Wat op aarde laat haar nou so iets dink? Skuldig kyk sy op na hom.

Gelukkig weet hy nie wat in haar binneste aangaan nie.

Frank sit plat op die gras, heeltemal verdiep in sy werk en kyk nie eens op toe
hulle by hom kom nie. Versigtig trek Helette haar hand uit Abel s’n om na
Frank se kunswerk te kyk. Toe sy skrams na Abel loer, kan sy sien hy het nie
eens agtergekom sy het haar hand uit syne bevry nie. Sy blik is intens op
Frank se skildery gerig.

“Dis pragtig, Frankie.” Daar is opregte bewondering in sy stem.

“Dankie, Ouboet.” Frank gaan rustig aan met verf sonder om op te kyk.

Helette staar self sprakeloos daarna. Die mahem in al sy glorie. Dit kort nog
net ’n bietjie afwerking. Sanja gly sommer self uit Abel se arm en gaan sit op
haar hurke langs Frank om te kyk wat hy doen.

Dit lyk asof die voël enige oomblik kan beweeg, so lewensgetrou is die
waterverfstudie. “Absoluut meesterlik gedoen, Frank,” fluister sy in
vervoering.

Toe hy haar stem hoor, kyk hy glimlaggend op. “Dankie, Let.” Sy oë gly oor
haar en Abel. “Hoekom is julle so vol modder?”

“Ons moes in die moeras rondloop om die vlei behoorlik te verken.”

Abel bekyk homself en grinnik. “Dit was nogal pret om mekaar met die veen
te besmeer.”

Frank kyk hulle berekenend aan. “Moet pret gewees het. Julle lyk behoorlik
ingesmeer met modder.”

“Toemaar, kleinboet, al het jy die pret misgeloop, het jy jou tyd baie nuttig
gebruik.”

Frank se blik skuif eers oor Abel en dan oor haar. Toe skud hy sy kop. “Ja,
het ek nie my tyd baie nuttig gebruik nie, nè. En is gelukkig nog
silwerskoon.” Hy sit sy hande op sy heupe en skreef sy oë teen die son.

Lees sy nou uit skuldgevoelens dinge in Frank se opmerking?

Natuurlik vorm hy seker sy eie prentjie van hoe Abel se hande met die veen
oor haar lyf beweeg het, en maak sy eie afleidings.

“Ek jeuk, Pappa,” kom dit geïrriteerd van Sanja.

“Ons gaan nou huis toe, my skat. Ek en tannie Helette jeuk ook, die modder
begin nou droog word aan ons velle.”

“Dalk help dit om julle velle dikker te maak,” brom Frank en begin sy
verfgoed wegpak.

“Hou op nonsies praat, boetie, en maak gou, ons wil ry,” praat Abel hom aan
en begin met Sanja aan sy hand aanstap na waar die viertrek

geparkeer is.

Helette skud haar kop. Abel het blykbaar nie besef wat Frank regtig probeer
sê het nie. Snaaks dat Frank daarby berus het dat hulle twee net vriende is en
dan byna jaloers optree noudat die spinnerakke tussen haar en Abel tydelik
weg is. “Ek sal vir Frank wag,” roep sy agter Abel aan.

Frank se oë vernou terwyl hy vir haar kyk. “Dis nie nodig nie, jy kan maar
loop, ek kan na myself kyk.”

Gits, speel hy nou hardekoejawel? “Nes jy wil.” Sy draai om en loop. As hy


befoeterd wil wees, goed en wel. Sy gaan hom nie soebat nie. Hy is dan die
een wat haar nog die hele tyd wysgemaak het dat Abel vir haar omgee en
noudat dit effens realiseer, is hy dikmond. Dan sê hulle nog vrouens is
onverstaanbaar, dink sy kopskuddend.

Met Sanja uiteindelik rustig aan die slaap, stap Helette buitetoe. Dis die laaste
aand hier, môre vat hulle die pad terug. Sy kyk op na die sterre wat in hulle
triljoene in die donker naghemel flonker. ’n Sterbesaaide nag laat haar altyd
met weemoed. Miskien is dit die besef van haar eie broosheid in die groot
heelal. Spikkeltjie mens, dis maar wat sy is, en tog het elke spikkeltjie ’n
storie, ’n leeftyd van asemhaal, eet en slaap.

En liefhê.

“Mooi, nè,” onderbreek Abel se warm stem haar gedagtegang.

Sy het nie besef hy sit nog hier buite nie. Sy stemintonasie speel so goed in
op haar eie emosies. “Pragtig,” beaam sy skor.

“Kom sit,” nooi hy waar hy by die gloeiende as van die uitgebrande


braaivleisvuur sit.

Sy stap nader en gaan sit. Die woorde wil nie kom nie maar stilte is ook
kommunikasie, besluit sy. Blykbaar verkies hy dit ook.

“Wat het van Frank geword?” vra sy tog later heserig. “Hy’s nêrens in die
huis nie.”

“Weet nie. Het seker gaan stap. Hy is nog dik die dadels in vir my.

Waaroor, weet ek nie. Weet jy dalk?”

Kan jy so dom wees, Abel du Vos? Al het Frank aanvaar sy stel net in
vriendskap belang, het hulle uitstappie in die vleiland hom tog omgekrap. Sy
kan dit ongelukkig nie hardop vir Abel sê nie, dan kan hy dalk dink sy het
verwagtinge ná die spelery in die veen. Die beste is om sy vraag te ignoreer,
besluit sy. “Ek gaan koffie maak, wil jy ook hê?” verander sy die onderwerp.

“Dit sal lekker wees. Ek kom.”


Dis ’n ander, vriendeliker Abel met wie sy hier te doen het. Seker die
ontspanne atmosfeer wat hom beïnvloed. Met ’n bonsende hart loop sy voor
hom uit kombuis toe. Sy skud haar kop dat haar hare sag waaier, vul die ketel
met water en skakel dit aan.

Toe voel sy Abel se vingers deur haar hare kam en draai verskrik om. Sy
hand val op haar skouer en hy kyk na haar met ’n vuur in sy oë wat sy nog
nie tevore gewaar het nie. “Jou hare,” prewel hy sag,

“raafswart sy. Ek het nog altyd lus gehad om daaraan te vat.”

Sy kan net sprakeloos staar. Wat het in hom gevaar?

Hoe dit gebeur, weet sy nie, maar skielik is sy in sy arms, teen sy bors. “Kyk
vir my, Helette. Jy is ’n baie mooi vrou.” Die skor klank in sy stem laat haar
opkyk in twee glashelder grys oë. Toe kom sy mond sag teen haar voorkop te
rus.

Dit voel asof sy hoog op ’n wolk ry.

Sy lippe gly teen haar slape af tot by haar bewende mond.

“O, donkiedons, is dit nou weer my beurt om ’n aandoenlike toneeltjie te kom


versteur?” sny Frank se stem deur die stilte. “Jammer, ek het nie geweet nie
…”

Blitsvinnig spat hulle uitmekaar. “Koffie?” Abel wys na die ketel wat begin
kook. Die blos stoot teen sy kraag op. Helette draai vinnig om en werskaf met
die koffiebekers. Sy sien nie kans vir Frank se ek-het-jou-mos-gesê-gesig nie.

“Dankie, maar nee dankie. Ek verkas weer, dan kan julle verder vry.” Sonder
’n verdere woord draai Frank in sy spore om en loop.

Frank het die goue oomblik versplinter. “Sien jy nou wat het jy gedoen?”
haal sy haar teleurstelling op Abel uit terwyl haar nugter verstand haar
vermaan dat sy uiters onregverdig is.

“Helette …” Sy grys oë verdonker.


Sy skeur haar oë van hom af weg. Die krag om die nuwe wending te ontleed,
het sy nie, en sy verstaan haarself ook nie. Wat nou net gebeur het, is dan
waaroor sy al so dikwels gedroom het, en noudat dit gebeur, trek sy
kleinkoppie. “Ek wil nie meer koffie hê nie, ek gaan slaap. Wat moet Frank
van ons dink?” O, en sy weet sy is nou bitter onredelik.

Voor sy ’n tree kan versit, sluit sy hande stewig om haar boarms.

“Die spreekwoord sê ‘it takes two to tango’. Ek is nie die enigste sondebok
nie.” Hy sluit sy lippe ferm opmekaar en die staal is terug in sy oë. “Maar ek
wil net vir jou sê ek is jammer oor my aandeel in die amoreuse toneeltjie van
flussies. Ek weet Frank is so verlief op jou soos

’n mak haas. Ek sal nie weer in my kleinboet se slaai krap nie. Onthou net, ek
is ook net vlees en bloed, en soos ek gesê het, jy is ’n baie mooi vrou. Gaan
slaap gerus, ek sal self vir my koffie skink.”

Hy los haar so skielik dat sy byna haar balans verloor. Sy lig haar ken vererg.
Stuur haar as ’t ware soos ’n kind weg en plaas hom self al weer in beheer
van die situasie.

Sonder om hom te antwoord, maak sy haar uit die voete.

Tot laat na middernag lê sy nog en rondrol. Die slaap bly weg. Baie mooi
vrou, maal dit deur haar kop. Dan is dit maar net haar uiterlike wat hom
aantrek. Wat van die mens wat sy is?

Sy voel al weer lus om te bedank as au pair, maar haar woord is haar eer. Sy
sal die drie maande aanbly, ’n muur om haar hart bou en haar aan haar werk
oorgee. Dalk word daar juis die suiwerste simfonie daaruit gebore.

TWAALF

Helette bel haar ma se selfoon en hou asem op dat haar ma gaan antwoord.
Ma Marna, met haar klein, tenger liggaam, was nog altyd ’n rots in haar lewe.
Wanneer sy moedeloos was, het ma Marna getroos en raad gegee. Ook nou,
weet sy, sal haar ma kan salf smeer aan ’n rou wond.

“My kind, is julle terug?”

Die vreugde in ma Marna se stem spoel helend oor Helette. “So ’n uur gelede
gekom, ja. Darem klaar uitgepak. Wanneer sien ek Ma?”

“Vera rus nou en ek wil haar nie alleen laat nie. Jy is welkom om hierheen te
kom.”

“Goed, ek kom.” Sy sal gou vir Abel sê sy gaan ry.

Sy kry hom buite in die tuin, op sy hurke. Hy het die sprinkelbesproeiing


oopgedraai en Sanja kraai van die pret terwyl sy deur die waterstraaltjies
hardloop. Toe hy haar gewaar, skiet sy wenkbroue in vraagtekens op.
Natuurlik het hy nie verwag dat sy hom sal kom opsoek nie, dink sy grimmig.
Net die blote aanskoue van hom maak haar opnuut die josie in, maar nou kan
dit nie anders nie, sy moet hom trotseer.

“Ek wil ’n guns vra,” sê sy styf toe sy by hom kom. “Ek wil my ma gaan
groet. Ek weet ek is veronderstel om na Sanja te kyk, maar sal dit in orde
wees as ek gaan en haar hier by jou los?”

’n Snaakse glinstering verskyn in sy oë terwyl hy opkyk na haar.

“Natuurlik sal dit in orde wees om haar by my te laat, ek is dan haar pa.”

Deksels, haar vraag het seker snaaks geklink. “Ek het my net verkeerd

uitgedruk,”

maak

sy

gou

verskoning.
“Dis

tog

vanselfsprekend dat ’n kind veilig by haar pa sal wees. In goed geankerde


gesinne, in elk geval.”

Hy kom orent en vou sy arms. “En reken jy ons is ’n goed geankerde


enkelouergesin?” Sarkasme drup uit elke woord.

Hy besit nou maar eenmaal die vermoë om haar bloeddruk te laat styg, dink
sy omgekrap. “Jy weet goed genoeg wat ek bedoel. Sal jy regkom sonder my,
ja of nee?”

Hy vat sy ken tussen duim en wysvinger vas en kyk peinsend na haar, sy kop
effe eenkant toe gekantel. “Laat ek mooi dink. Nee, ek sal nie regkom nie, nie
sonder jou nie.”

Dit voel asof sy kan slange vang. Waarom die sarkasme? Hoekom haar so
treiter? Vaagweg wil dit tot haar deurskemer dat sy stem baie skor klink,
maar sy sal haar nie daardeur laat flous nie. “Ek het nederig vir jou, my
werkgewer, kom vra of ek die middag verlof kan kry.”

Koue graniet kruip in sy oë. “Ek het nog nooit in terme van werkgewer en
werknemer gedink nie. Was dit dan nie veronderstel om

’n vertrouensooreenkoms tussen ons twee te wees nie?”

Kom wat wil, maar sy kan nie met haar gewone vinnige antwoorde vorendag
kom nie. Met saamgeperste lippe kyk sy wagtend na hom.

“As dit jou beskouing is, sal niks wat ek sê jou van mening kan laat verander
nie,” gaan hy streng voort. “Gaan gerus na jou ma toe, ek is heeltemal in staat
om na Sanja te kyk. En dra my groete oor.”

Dit voel weer asof ’n muur tussen hulle inskuif. Helette voel hoe haar naels in
haar handpalms invreet. “Ek sal so maak,” wurg sy dit uit, draai kort op haar
hakke om en loop.
“Weet jy waar Vera bly?” roep hy agterna.

Sy steek vas en draai om. “Ek het die adres, dankie.”

“Reg. Hoop jy kan goed rigting hou.”

Sy gee hom net ’n moordende kyk en stap vinnig weg.

Uiteindelik hou sy by Vera se huis stil. Dit was toe nie so maklik om die plek
te kry nie. Sy moes twee keer stilhou en verbygaande voetgangers vra.
Gelukkig hoef Abel nooit te weet hoe sy gesukkel het nie.

Ma Marna kom ontvang haar met oop arms by die motor. Soos altyd, wek dit
’n teer glimlag by Helette toe hulle mekaar omhels en sy weer besef hoe ver
sy bo haar ma uittroon. Tog was ma Marna in gees nog altyd die groter een.
“Letjie, kind, lyk my jy het na my verlang.

Kom in, ons sit sommer in die kombuis,” nooi sy, “dan maak ek vir ons tee.”

Met ’n lekker koppie warm tee in die hand, vertel sy van die uitstappie
Lakenvlei toe, asook van die mooi omgewing en hoe lekker alles was.

“Dit klink lekker, my kind, maar hoekom lyk jy dan so treurig? Wil jy dit nie
maar van jou gemoed afkry nie?”

Sy moet geweet het ma Marna sal dwarsdeur haar sien. Tussen hulle was daar
nooit geheime nie, dus is dit ook nie nou moeilik om haar hart uit te stort en
haar alles te vertel wat in Dullstroom gebeur het nie.

“En nou is ek albei die broers se vriendskap kwyt,” eindig sy oplaas,

“altans, dis wat ek vermoed.”

“Vriendskap?” Ma Marna se oë sluit waterpas met hare.

Verleë kyk Helette op haar hande af. Sy weet sy bloos, sy kan die hitte in
haar nek en op haar wange voel.

“Ek dink jy voel vir een van die twee meer as vriendskap, Helette.”
Helette kyk hulpeloos op. “Ek sorteer dit nog uit, Ma,” sê sy en weet
terselfdertyd dat sy nou strooi praat. Haar hart het lankal besluit.

’n Fyn glimlag speel om ma Marna se mond. “Die liefde sorteer homself uit
my kind, nie altyd sonder pyn nie. Wees net eerlik met jouself. Ek kan my
kop op ’n blok sit dat Abel ook dieper gevoelens vir jou het. Hy besef dit nog
net nie. Soos ek hom opgesom het, sal hy verder as jou uiterlike kyk. Hy sal
wil aanklank vind by jou

persoonlikheid. Ek dink hy’s reeds lief vir jou. Die sarkasme waarvan jy
praat, is net ’n manier om homself te beskerm.”

Verstom kyk sy na haar ma. Sy kon ma Marna nog nooit om die bos lei nie.
Sy het sowaar geweet dis Abel. As haar ma se waarneming oor hom tog maar
reg is. Wat haarself betref … In hierdie stadium van haar lewe soek sy nie
meer die opwinding van bloot verlief wees nie, sy soek die stabiliteit van
ware liefde wat alle toetse kan deurstaan. Om op hierdie ouderdom weer seer
te kry, gaan baie erger wees as destyds toe Chris haar soos ’n warm patat vir
iemand anders gelos het. Dis net onmoontlik om Abel te peil, want hy dra nie
sy hart op sy mou nie.

Haar hart is by omdraai verby, maar hoe betrokke is Abel se hart? Sy kan
haarself nie sover kry om teenoor ma Marna te erken sy is reg nie.

“Dis Abel, nè?” Haar ma se stem is fluistersag. “Jy’s lief vir hom.”

Helette trek haar asem rukkerig in en dit voel asof sy soos ’n gekweste voël
uit die lug val en hard op die grond te lande kom. Ma Marna se pyl is
trefseker. Sy knik verslae, sluk teen die droogheid in haar keel en antwoord
skor: “Ja.”

Dit voel asof ’n yslike gewig van haar afrol. Vir die eerste keer het sy dit
hardop erken.

“Niks om oor skaam te wees nie, Letjie.”

Getref deur die teerheid in haar ma se stem, kyk sy op. “Arme ou Frank, Ma.
Hy het so gehoop daar kan iets tussen ons wees. Hoekom kon ek tog nie vir
hom lief raak nie? Ek weet Ma dink anders, maar vir my voel dit Abel sien
my net as Sanja se au pair. Dalk soek hy ook net vriendskap. Na sy vrou se
dood het hy nog nooit weer ernstig kon raak oor ’n vrou nie.”

Ma Marna skud haar kop. “Jy het dan gehoor ek sê Abel is lief vir jou. Ek het
oë in my kop, glo dit asseblief.”

“Ek wil so graag,” sug Helette. “Asseblief, hy mag nooit weet hoe ek oor
hom voel nie, Mams, miskien is jou waarneming ook verkeerd.

Belowe my jy sal nie probeer Kupido speel nie?”

Haar ma kantel haar kop en frons. “As jy dit geheim wil hou, goed, dan is jou
geheim veilig by my. Ek sal buitendien nooit in jou sake inmeng nie, maar ek
herhaal, ek het ook al gesien hoe Abel na jou kyk as hy dink niemand sien
nie. Dalk neem ek meer objektief as jy waar.”

Ma Marna se oog kyk baie skerp, dit weet Helette uit ondervinding.

Dis dus glad nie onmoontlik dat … Sak, Sarel, keer sy haar gedagtegang voor
sy antwoord. “As hy soms op ’n spesiale wyse na my kyk, is ek seker hy is
nie eens self daarvan bewus nie. Laat ons dan maar slapende honde los tot
hulle self wakker word,” soebat sy weer.

Haar ma glimlag warm. “Ek het mos gesê ek sal jou hartsgeheime veilig
bewaar. Glo my tog net.”

Helette se selfoon onderbreek hulle gesprek. Sy was net op die punt om dit
dood te druk toe sy Abel se naam op die skerm sien. “Hallo,”

antwoord sy met ’n bonsende hart en loer skugter na ma Marna.

“Ek wou net weet of jy Vera se huis kon kry. Eintlik moes ek saam gery het,
want dis so ’n draaierige roete, mens verdwaal maklik op pad daarheen.” Hy
klink opreg besorg.

“Maklik gekry,” jok sy gladweg. “Ek sal oor ’n uur terug wees.” Sy kan die
sagte hartslae agter haar ribbes nie beheer nie. Hy klink so opreg bekommerd.
Sy loer skigtig na haar ma. “Praat van die duiwel …”

Ma Marna staan op. “Ek maak vir ons vars tee. Vera sal seker ook enige tyd
wakker word en sy is baie lief vir haar tee.”

Asof sy geroep is, verskyn Vera juis in die kombuis by hulle, die wit
bondeltjie hond in haar arm. “Is Gertruida dan ook by ons?”

“Nee, sy is nie Gertruida nie. Sy is Helette,” help Marna haar geduldig reg en
Helette verstom haar oor die kalm uitwerking wat haar ma op Vera het. Die
aggressie van vroeër is heeltemal weg.

“Hallo, Helette,” groet Vera doodbedaard en gaan sit met die Maltesie op
haar skoot. “Ek weet net nie hoekom jy so baie na Gertruida lyk nie. Sandria,
my dogter, het ook sulke swart hare gehad,

maar haar oë was blou. Gertruida se oë was gitswart, soos joune.” Sy sit die
hondjie neer, vat die tee by Marna aan, gooi ’n bietjie daarvan in die piering
en sit dit op die vloer neer vir die Maltesie om te drink.

“Weet jy hoekom jy na Gertruida lyk?” hervat sy haar gesprek.

“Mense lyk soms toevallig na mekaar, Mevrou. Dis seker maar die swart
hare.”

Tevrede met die antwoord, knik Vera haar kop. “Ja, dis jou hare.

Presies dieselfde.”

“Ma het wondere met Vera verrig, kyk net hoe kalm is sy. Wat was die
doepa?” wil Helette weet toe hulle buite by haar motor staan.

Haar ma lag klokhelder. “Hierdie klein hond is die beste medisyne wat Vera
kon kry. Dis die antwoord vir baie oues se eensaamheid en siektes.”

Sê haar ma, die diereliefhebber, dink Helette teer.

“Daar is egter ander dinge waaroor ek ook nog met jou wil gesels, Helette,
maar dit moet wag vir ’n ander keer,” sê sy toe hulle uiteindelik groet.
“Dankie dat jy jou hart vir my oopgemaak het.” Ma Marna se oë rus sag op
haar. “Volg jou hart, my kind. Ek weet jy vrees dit om weer seer te kry. Al
die jare het jy nog altyd jou loopbaan voorgehou as rede, en ons weet albei
waarom. Onthou, liefie, alle mans is nie soos Chris of jou biologiese pa nie.”

Weer tref die pyl die kol. Ma Marna kan haar altyd soos ’n oop boek lees.
“Met mans wat anders as hulle is, verwys Ma nou eintlik na pa Paul? Was hy
nie maar ’n uitsondering nie?”

Ma Marna skud haar kop. “Maak jou oë oop en kyk na al die gelukkige
huwelike wat daar tog is. Soms moet mens dit waag om te vertrou, Helette.”

Waag. Vertrou. Marna se woorde bly in haar kop maal toe sy terugry.

Dit klink so maklik. Maar om dit te doen … Haar gedagtes gaan terug na
daardie een keer toe Abel haar sag op die voorkop gesoen het. Sy het dit
duisend kere daarna weer in haar gedagtes herleef. Dit voel ingebrand op haar
voorkop. Hoeveel keer het sy nie gewens Frank het nooit daar opgedaag nie.

Frank. Hoe gun sy nie vir hom ook geluk nie. By haar sal hy dit nie kan kry
nie. Dankie tog sy het die moed gehad om dit vir hom te sê. Hy verdien meer
as ’n halwe hart. Eendag ontmoet hy dalk die vrou wat hom alles kan gee wat
hy wil hê.

Al het haar hart lankal ’n keuse tussen die twee broers gemaak, wou haar kop
dit nie erken nie. Nou is dit te laat. Nie net het sy vir Frank ontnugter nie,
maar Abel dink seker nog steeds sy het met Frank geflerrie. Hy het hulle ook
al soveel keer in ’n omhelsing betrap, dit sal nie maklik wees om die teendeel
te bewys nie.

Ma Marna is seker reg, nie alle mans is gewetenlose verleiers nie.

Die probleem lê by haarself, die vrees dat sý dalk die gewetenlose is.

Dit kon sy nie vir haar ma sê nie. Soos wanklanke in ’n suiwer simfonie
gedemp moet word, onderdruk sy hierdie vrees: haar pa wat sy nooit geken
het nie se bloed wat in haar are vloei. Sê nou hierdie appel het ook nie ver
van die boom geval nie?
Abel staan haar en inwag toe sy terugkom. Sy vermy sy oë toe sy nader loop.
Na haar ontboeseming teenoor ma Marna voel sy selfbewus in sy
teenwoordigheid en wil eintlik sommer draaie om hom loop.

“Hoe gaan dit met Vera?” wil hy afgetrokke weet.

“Goed. Sy lyk baie kalmer.” Helette hou haar oë op ’n swaeltjie wat hoog
bokant hulle koppe vlieg. “Sy skrik gelukkig nie meer wanneer sy my sien
nie.”

Hy druk sy hande in sy sakke en sy sien die peinsende uitdrukking in sy oë.


“Het sy jou weer Gertruida genoem?”

Sy waag dit om hom vol aan te kyk. “Ja, my ma het haar reggehelp.

Toe kom dit uit haar eie mond dis oor ek ook swart hare en oë het. Dis nie net
aan Gertruida wat ek haar laat dink nie, sy het vanmiddag gesê ek lyk ook
ietwat na Sandria.”

Abel se oë raak die kleur van grou donderweer. “Ek sal verkies dat ons
Sandria hier uitlaat,” sê hy nadruklik en draai dan sonder ’n verdere woord
om en loop.

Verslae bly Helette staan. Nog ’n spook dus. Is hierdie spook die bewaker
van Abel se hart? As net die noem van Sandria se naam hom so ontstel, sal
dit mos altyd soos ’n doringdraadversperring tussen hulle wees.

DERTIEN

“Ek wil met jou en Abel gesels. Belangrike dinge met julle praat,” val ma
Marna op ’n helder Saterdagmiddag met die deur in die huis toe die
voordeurklokkie lui en Helette oopmaak. Daar is ’n soveel erns in haar ma se
stem, maar andersins lyk sy kalm en in beheer soos altyd.

“Wat is dit? Waar is Vera?” Behoede tog, as die vrou iets moes oorkom, sal
ma Marna aanspreeklik gehou word. As haar ma so klink, moet dit ernstig
wees.

“Sy slaap. Die huishulp sit by haar in die kamer en ek gaan dadelik terug,
sodra ek met Abel gepraat het.”

“Abel werk op die oomblik in die tuin, Moek. Kom saam soontoe.

Hy is nou vuil en vol tuingrond en sal seker nie wil binnetoe kom nie.”

“Dis goed so.” Ma Marna vee deur haar grys bob soos altyd wanneer sy
ernstig is.

Abel vee die sweet met sy hand van sy voorkop af en knik toe Helette
verduidelik waarom hulle daar is. “As julle sal verskoon dat ek so vuil by
julle kom sit.”

Vertedering pluk aan haar hartsnare. Sy kuif is deurmekaar en sy denim en T-


hemp vol grond, tog lyk hy op die oomblik net so manlik en selfversekerd
soos in netjiese klere. En soos ’n verkwikkende reënbui oorval die wete haar:
Sy het Abel du Vos lief. Dit was toe nie die oorweldigende volle orkes nie,
maar ’n fyn, outydse minuet wat die melodie in haar hart uitspeel. Kalm,
sonder simbale.

Ma Marna, wat gewoonlik die kleinste blom in ’n tuin raaksien, kyk kwalik
om haar rond en toe hulle hul sit kry, begin sy dadelik praat.

“Ek het taamlik voelers uitgesteek toe julle Lakenvlei toe was, maar Vera wil
niks weet van skuif na ’n aftreeoord nie. Sê net sy wil nie

tussen ou mense gaan bly nie.” Ma Marna rol haar oë moedeloos.

“Verbeel jou, sy’s al vier en sewentig, nou is die mense in so ’n plek glo te
oud vir haar.”

Helette loer vlugtig na Abel en merk die vonkel in sy oë. “En?” por sy haar
ma aan.

“Nee, sy hou voet by stuk niemand sal haar in so ’n plek kry nie. As ek
nugter daaroor dink, besef ek sy sal nie daar aard nie, mens mag mos nie
troeteldiere daaraanhou nie. Verbeel jou, bejaardes sonder troeteldiere. Die
mense wat sulke plekke bestuur, weet niks van sielkunde nie. En dis net daar
dat ek ’n besluit geneem het. Sy kan nie alleen in haar huis bly nie en ek kan
nie permanent hier bly nie. Vera moet saam met my Vaalbult toe. Ek sal daar
vir haar sorg.” Sy kyk hulle uitdagend aan asof sy teenstand verwag. “Sy kan
permanent by my bly.” Haar oë rus vraend op Abel.

Tipies ma Marna. Siek diere, siek mense. Helette onthou hoe dikwels het
pasiënte sommer by hulle aan huis kom aansterk as daar niemand was om
hulle te versorg nie. “Wat van jou eie lewe, Ma? Kooroefening,
Bybelstudie?”

Die blou oë wat na haar toe draai, laat haar voel soos in haar kinderjare. Die
blik sê: Ek het gepraat; dis finaal.

Helette sug sag. Uit ervaring weet sy dat geen argument haar ma van besluit
sal laat verander nie. Sy kyk na Abel.

“Tannie Marna saal nou ’n baie wilde perd op.” Abel loer na Helette en toe sy
instemmend knik dat hy moet aangaan, praat hy verder.

“Haar toestand kan met tyd vererger, en dan?”

“Dan ry ek die perd wat ek opgesaal het, Abel. Ek sal weet wat om te doen as
dit gebeur. Ek weet ek kan dit nie sonder jou toestemming doen nie, want jy
is verantwoordelik vir haar.”

Abel sit agteroor en kyk ernstig na haar ma. “’n Selfopgelegde taak,”

sê hy peinsend. “Ja, ek voel verantwoordelik vir haar, ek kan haar nie


sommer aan haar lot oorlaat nie. Vir lank was sy my skoonma en sy

bly nog altyd Sanja se ouma.”

Ma Marna glimlag goedkeurend. “Dis juis wat van jou ’n baie besonderse
mens maak, Abel.”

Dit ruk deur Helette. Daar gee haar ma nou die antwoord op die vraag wat al
geruime tyd by haar spook: Waarom het sy Abel lief?
Haar hart se keuse het vanself op hom geval en sy kon nie verstaan waarom

dit

Abel

is

en

nie

Frank

nie.

Dis

sy

sterk

verantwoordelikheidsin, sy deernis met mense. Dit is vir hom geen moeite


om die tweede myl saam te loop nie. Seker die gevolg van die ouer broer wat
al die jare na die jongere moes omsien.

Ma Marna se kompliment laat Abel verleë en sonder woorde. Die professor is


skoon uitgeboul en sy sagte kant beur weer na die oppervlak. “Is jy ernstig
om Vera by jou in te neem, tannie Marna?” wil hy tog weet.

Haar ma kyk Abel vierkant in die oë. “Natuurlik. Ek sê nooit dinge wat ek nie
bedoel nie, en ek doen nooit dinge wat ek nie wil nie.”

“Helette, wat sê jy?” soek hy hulp, duidelik nie seker wat om te antwoord nie.

“Soos ek my ma ken, het sy klaar besluit, Abel. Dít kan ek jou egter verseker,
jy sal jou nie oor Vera hoef te bekommer nie. Sy sal goed na haar kyk.”
Sy wenkbroue lig effe toe hy na Helette kyk en knik. “Natuurlik weet ek Vera
sal goed versorg word. Nou goed, dit dra my goedkeuring weg. Weet Vera al
hiervan?”

’n Skuldige trek gly oor ma Marna se gesig, “Ja, en sy is vuur en vlam


daaroor. Sy het glad gesê jy moet maar haar huis en meubels verkoop.”

Verbaas staar Abel ma Marna aan. Toe lag hy hartlik. “Lyk my ek het met ’n
aartskonkelaar te doen.” Sy blik fynkam Helette se gesig.

“En jy, Helette, aard seker na jou ma. Wil ook altyd jou sin hê.”

Helette kyk na haar ma en weet hulle dink nou presies dieselfde. Die

ooreenkoms in hulle persoonlikhede is nie oorgeërf nie, maar oor die jare
aangeleer, deur die liefde.

“Wanneer wil jy teruggaan, tannie Marna?”

“Sodra ek Vera se nodigste goed ingepak het, Abel.” Ma Marna se oë vonkel


prettig. “Dit behoort nie baie lank te neem nie. Ons kan môre al in die pad
val. Die huis sluit ek net toe en gee die sleutel vir jou. Jy sal tog sekerlik die
verkoop daarvan behartig.”

“Dan moet dit seker maar op my skouers rus,” sê hy met ’n gemaakte sug,
maar glimlag dadelik weer. “Daar is sulke kosbare meubels in daardie huis,
kies asseblief wat Tannie wil hê voor dit onder die hamer kom.”

“Miskien die een en ander om Vera te laat tuis voel in haar slaapkamer, maar
laat ek eers maar kyk, Abel, sal jou later sê.”

“Helette, kan jy so gou as moontlik hierheen kom? Dis dringend, my kind.”

Koue vingers pluk aan Helette se hart. Ma Marna is nie iemand wat sal bel
oor nietighede nie. Sukkel met Vera se bagasie kan dit ook nie wees nie,
daarvoor is sy te veel van ’n raakvatter. Paniekerig raak oor

’n krisis ook nie. Dit moet dus buitengewoon ernstig wees. “Ek kom
dadelik,” antwoord sy, terwyl duisend vrae deur haar kop woed. En o, toggie,
sy moet net nie weer verdwaal nie.

Sy kry Abel voor die televisie waar hy na ’n rugbywedstryd sit en kyk. Hy


kyk dadelik bekommerd op toe sy sê waarheen sy gaan. “Ek kan saamgaan,
jong, dalk het julle my nodig.”

Dis die Abel van haar hart. Besorgd en gereed om te help. “Dis nie nodig nie.
En ek sal nie weer verdwaal nie.” Sy moet die begeerte onderdruk om agter
sy stoel te gaan staan, haar arms om sy nek te slaan en ’n soen op sy kroontjie
te plant.

“Nou goed dan, bel my wanneer jy daar is.” Sy oë is dadelik weer

vasgenael op die rugbywoelinge op die kassie.

H’m, in sy hart is hy seker bly sy het sy aanbod van die hand gewys, want
tipies man, is rugby sy groot belangstelling. Tog was hy bereid om dit op te
offer. “Ek sal so maak … jou bel.”

Met die motorsleutel in haar hand, glip sy buitetoe voor Sanja haar dalk sien
en wil saamry.

Haar ma se gesig en oë straal ongewone teerheid uit, meer as ooit tevore. Sy


lyk so opgewonde soos ’n kind wat nie kan wag om ’n verrassing te onthul
nie.

Sy kyk haar ma vraend aan. “Wat op aarde is aan die gang, Ma?”

“Daar is iets baie belangriks wat ek jou moet wys, Helette,” sê sy


geheimsinnig. “Kom.”

Sy haak by Helette in en lei haar die huis in, met ’n lang gang af, verby ’n
paar slaapkamers tot waar dit doodloop by die hoofslaapkamerdeur.

“Kom in dat jy kan sien. Ek het daarop afgekom toe ek Vera se klere ingepak
het.”

By die aanhoor van Vera se naam rem Helette terug. “Waar is sy?
Ons kan mos nie sommer in haar kamer kom snuffel nie.”

“Nee, man, ek het haar toestemming om hier te werk. Sy sit op die agterstoep
met Woelie en speel. Kom, ek wys jou.” Ma Marna plak haar op die bed neer,
trek ’n geelhoutkissie omtrent die grootte van ’n skootrekenaar nader en
maak dit oop.

Nuuskierig gaan Helette ook sit, haar oë vasgenael op die foto wat ma Marna
in haar hand stop. ’n Groter weergawe as die een wat sy in haar besit het.
Haar biologiese ma. Dis ’n mooi, groot foto en sy sien nou eers behoorlik hoe
’n pragtige vrou dit was. Vraend kyk sy na Marna. “Maar … dis dan in Vera
se besit. Ek het nie gedink sy sou Gertruida se foto hou nie?”

“Kyk agterop,” sê haar ma sag.

Helette draai dit om en begin oorbluf lees. Sy trek haar asem skerp in. Die ink
het al effe verdof, maar dis nog maklik leesbaar. Haar maag begin draai
terwyl sy die boodskap weer lees om seker te maak sy verstaan dit reg.

My liefste Martin

Omdat ek jou so liefhet, moet

ek ons verhouding verbreek,

want ek gun jou ’n gesinslewe

saam met Vera en julle

dogtertjie. Ja, ek weet sy is ook

onlangs gebore, ek het by my

ou kantoorvriendinne gehoor.

Ek gaan uit jou lewe verdwyn,

moenie my probeer soek nie.


Ek

het

ons

baba

klaar

afgeteken vir aanneming ná die

geboorte. Jou dogter sal nooit

eens weet sy het ’n jonger

broertjie of sustertjie nie. Glo

my, my liefste, dit is die beste

so. Ek hoop jy vergeet spoedig

van my en gaan met jou lewe

en loopbaan aan. Jy sal gou

weer ’n bekwame sekretaresse

in my plek kry. Werk hard om

jou huwelik te herstel, die

liefde wat jy eens vir Vera

gehad het, sal weer blom. Ek

kan maar net hoop sy vergeef

my al die hartseer wat ek vir haar veroorsaak het.


Ek sal jou altyd liefhê.

Gertruida

Helette se oë is vol trane toe sy uiteindelik weer opkyk. “Nou verstaan ek


waarom Vera dit gehou het ná haar man se dood. Al was die herinnering aan
Gertruida hoe onaangenaam, het Vera seker besef Gertruida het haar man vir
haar teruggegee,” fluister sy.

Onmiddellik gaan ma Marna se arms om haar en word sy teen die voëltjiefyn


borskas vasgedruk. “Ja, nou verstaan ons, my pop,” troos sy moederlik. Toe
los sy haar weer net so skielik en vroetel in die kissie.

“Hier’s ’n foto van Sandria ook, haar naam staan agterop. Julle lyk baie na
mekaar.”

Helette se hande bewe toe sy die foto by haar ma aanvat. Haar keel word dik
en sy sluk tevergeefs. Om uiteindelik haar sussie te sien …

Dis ’n kleiner foto en die meisie het net sulke swart hare soos sy.

Helette kan tog ’n sterk ooreenkoms tussen haar en Sandria sien. “Ook maar
net as mens weet van die verwantskap, Ma. Abel het dit byvoorbeeld nooit
opgemerk nie, wel op ’n keer peinsend gesê ek laat hom aan iemand dink.”

Ma Marna se mondhoeke vertrek in ’n fyn glimlag. “Jy’s reg. Jou


ooreenkoms met Gertruida is sterker.”

Skielik kom lê daar ’n siek gevoel in Helette se binneste. Haar biologiese ma


het byna ’n huwelik verwoes en sy is die produk daarvan. Om bang te wees
omdat sy haar biologiese pa se gene dra, is

’n vulletjie teen die wete dat sy ook na haar biologiese ma kan aard.

Gelukkig is Abel nie getroud nie. Tog is daar nog ’n vinger wat na haar wys,
’n nuwe besef wat by haar opkom: Sy het so byna met Frank geflerrie om
Abel jaloers te maak. Al was dit nie haar motief nie, het dit

seker in haar onderbewuste gesetel. Maak dit haar nie maar net so skuldig
soos Gertruida nie? Sy het geen reg om Martin en Gertruida te veroordeel
nie.

“Ek wonder of ek na hulle aard,” sê sy met ’n verslaenheid in haar stem.

“Ons het hulle nie geken nie, Helette,” antwoord ma Marna ferm.

“En onthou, Gertruida het toe tog die eerbare uitweg gekies. Ek glo Martin
het hom daarna aan sy gesin gewy. Abel het nog net met lof van sy
skoonouers gepraat. Nee, my kind, jy het jou eie aard. Vergeet die verkeerde
dinge, jy het ’n hele toekoms voor jou om reg te leef.”

Ma Marna is reg. Dat Gertruida die liefdesverhouding tussen haar en Martin


verbreek het, uit sy lewe verdwyn het, is ’n bewys van integriteit. Om bereid
te wees om haar baba af te teken, kon nie maklik wees nie, tog het sy seker
besef dit sou vir die kind ’n goeie toekoms verseker. En wat ’n wonderlike
opvoeding, om van die tonne liefde nie eens te praat nie, het sy toe nie by pa
Paul en ma Marna ontvang nie.

Hulle het hulle hande deurgewerk om haar net die beste te kon gee.

Helette vat haar ma se benerige hand en druk dit styf. “Eintlik moet ek
Gertruida dankbaar wees dat sy die regte besluite kon neem.

Daardeur kon ek toe Ma se kind word.”

“Ek dink sy was ’n goeie mens,” sê Marna peinsend. “Baie van jou goeie
karaktertrekke kom gewis van haar af. En ek glo ook nie Martin was inherent
sleg nie. Soms verloor mens kop en raak die pad byster.

Hy het egter ’n kans gehad om terug te draai en reg te maak. Jy kan heel
gerus voel oor jou bloedlyn, Letjie.”

Helette glimlag. “Dalk sou ek baie van hulle gehou het indien ek hulle kon
ken, maar Ma sal altyd tops bly.”

“Dankie, my kind. Ek neem hierdie kissie saam en gaan hierdie foto vir jou
raam. So byna vergeet ek, hier is ook ’n foto van Martin, volgens die datum
agterop, kort voor sy dood geneem.”
Dis ’n mooi man met ’n sterk gesig. Die grys teen sy slape laat hom

gedistingeerd lyk, na die suksesvolle sakeman wat hy glo was. Tog is dit net
’n gesig. Helette ervaar geen opwelling of emosie toe sy daarna kyk nie en
die verligting spoel oor haar. “Pa” is vir haar oorlede pa Paul.

“Hier is ook hulle troufoto, Helette,” onderbreek ma Marna haar gedagtes en


hou nog ’n foto na haar toe uit.

’n Stralende, laggende paartjie, met oë net vir mekaar, sien sy en voel weer
eens verlig. Dan het hulle mekaar tog liefgehad. Martin se dwaling was seker
maar ’n middeljarekrisis. “Hulle was ’n pragtige paartjie. Kyk net hoe
fyntjies lyk Vera. Ag siestog, dit moet seker vir haar ’n bitter tyd gewees het
toe sy gevrees het sy gaan haar man verloor. Ek verstaan nou beter waarom
sy so verskrik was om my te sien. Die bedreiging wat Gertruida vir haar
geluk ingehou het, was weer lewend.”

“Gelukkig het sy nou vrede gemaak met die wete dat jy nie Gertruida is nie.
Sy’t ook gesê ek moet hierdie foto’s weggooi, sy wil dit nie meer hê nie. Ek
hoop jy sal dit wil hê, Helette.”

“Natuurlik, ja. Dis baie kosbaar.” Sy tel weer Sandria se foto op en bestudeer
dit. Haar suster en Abel se geliefde. Helette wonder wat sal sy reaksie wees
as hy moet weet van haar verbintenis met Sandria.

Sy delf in haar handsak om haar selfoon te kry toe dit begin sing.

Vlugtig sien sy Abel se naam op die skermpie voor sy antwoord.

“Het jy reggekom? Is daar probleme?” val hy met die deur in die huis sonder
om te groet.

“Geen probleme nie. Sommer iets waarmee ek moes help. Ek is so te sê klaar,


dan kom ek.”

Sy druk die verbinding vinnig dood en kyk skuldig na haar ma.

“Ekskuus vir die leuen, maar ek kon hom nie oor die foon vertel nie.”
Ma Marna knik. “Vat die kissie saam, dan wys jy vir hom die foto’s en vertel
hom die waarheid. Dit raak hom ook.”

“Dat ek en Sandria …”

“Ja, Helette, hy moet weet sy was jou suster.”

VEERTIEN

Helette steek in haar spore vas. Abel sit droomverlore voor hom en tuur
terwyl die laatmiddagson die weste begin verkleur. Hierdie tyd van die dag is
dit heerlik op die agterstoep en sy wou die rustigheid hier kom opsoek om die
dag se gewoel te laat afwentel. Dit was seker Abel se idee ook. Sy wil hom
nie graag steur nie, sy sal maar ’n ander stil hoekie gaan soek.

Die een of ander tyd sal sy vir Abel van haar verlede moet vertel.

Maar dit sal moet wees wanneer hy genoeg tyd het om te luister. Sy sal die
kissie se inhoud vir hom wys, asook haar eie foto van Gertruida en dan maar
hoop hy het begrip daarvoor. Sy het nou wel besluit om aan te bly wanneer
die drie maande verstreke is, ter wille van Sanja. Nou weet sy nie meer of
haar hart dit sal hou om Abel elke dag te sien sonder enige hoop vir die
toekoms nie. Dit voel nou so ver terug in die verlede toe sy die eerste keer by
Leliestraat 10 se voordeur gestaan het.

Tog onthou sy nog duidelik die moeë trek op sy gesig en die opheldering toe
hy dag sy het op sy advertensie gereageer.

“Kom sit hier by my, Helette, wat staan jy so in die deur?”

Abel se stem laat haar uit haar mymeringe opskrik. Sy loop nader en gaan sit
op die rottangleunstoel langs hom.

“Jy sal nooit weet waaraan ek sit en dink nie.”

Sy skud haar kop. “Nee. Vertel.”


Hy lag sag. “Daardie eerste dag toe ek jou vir ’n au pair aangesien het.
Bobbejaan wat ek was. Enigeen kan tog sien jy is nie ’n au pair nie.”

“Solank jy nie daarmee wil sê dat ek nie my werk goed doen nie,”

skerts sy saam.

“O nee, ek sal eerder aandik hoe goed jy jou werk doen, want jou drie
maande kennis is byna verstreke en ek is benoud.” Sy grys oë lyk ernstig.
“Wil jy nog weggaan?”

Sy wil nie, maar dit kan nie kwaad doen om hom ’n bietjie aan ’n lyntjie te
hou nie, veral nie noudat sy agterkom hy wil haar graag nog hier hê nie. “Ek
het eintlik nog nie weer daaroor gedink nie,” antwoord sy vaag.

Hy neem haar hand en haar asem stol in haar keel. Ingedagte bestudeer hy
haar vingers, een vir een, sodat fyn sensasies teen haar rug opklim. Besef hy
wat hy nou aan haar doen?

“En die beeld wat my die meeste bybly, is jou parmantige wegstap toe jy my
huis so ontstem verlaat het.” Hy lag saggies en kyk na haar deur skrefiesoë.
“Was dit my verbeelding, of het jou heupies so ’n bietjie te veel gewikkel?”

Haar mond val oop. Is dit die beskroomde Abel? Wat op aarde het nou in
hom gevaar? As hy van plan is om ’n ligte flirtasie aan te knoop in ’n poging
om haar om te koop om te bly, sal dit ’n bittere teleurstelling wees. Verleë
begin sy sommer die waarheid uitblaker. “Jy het so streng gelyk, asof jy uit
graniet gekap was. Ek was moedswillig, ja, ek het gedink jy’s sommer ’n ou
fossiel. Toe loop ek moedswillig só.”

Hy vryf oor sy gesig en grinnik. “Fossiel of te nie, dit was darem die kyk
werd.” Hy loer behoedsaam na haar. “Dat so ’n mooi vrou nou sulke tegnieke
gebruik om ’n man te probeer vang.”

Wat die josie gaan nou met hom aan? Is hy besig met die een of ander
speletjie? Sy gaap hom aan en spring op. “Ekskuus my, ek hoef nie hierna te
luister nie.”
Verder as een tree kom sy nie. Hy gryp haar arm vas en dwing haar terug in
die stoel. “Helette …”

Iets in sy stem laat haar tog na hom kyk. Duisende lagduiweltjies dans in sy
oë. “Ek terg jou net, jong.”

Sy kyk hom skaapagtig aan en haar bene kry ’n lam gevoel, want die terglus
in sy oë het oorgegaan in donker erns terwyl hy steeds na haar kyk.
Liefkosend na haar kyk. Of is dit nou weer haar verbeelding?

Want hoe Abel du Vos regtig oor haar voel, sal sy nooit kan peil nie.

“Ek staal my al so lank teen jou bekoring.”

Sy stem is sag, maar sy kan elke woord duidelik hoor. Hy trek haar op tot sy
voor hom staan en druk haar sagkens teen sy bors. Dit voel asof alles in haar
meegee. Toe sy mond nader kom, lig sy hare vanself en sluit haar oë.

“Ek soek julle oral,” verbreek Sanja se kinderstem die oomblik.

“Tannie Let moet my kom bad.”

Helette se oë spring verskrik oop. Sy hoor Abel diep sug en weet hy voel net
soos sy – die seepbel het gebars. Tog bly hy haar vashou en sy koester haar
daarin. Sou die verlore soen vir hom enigsins betekenis kon hê?

“Sanpat, gaan solank na jou kamer toe, ek en tannie Helette wil gou klaar
gesels, dan kom sy na jou toe,” stuur Abel die kleintjie met groot geduld weg.

“Moet Pappa jou troos oor jy bang is?” Sanja se grys oë is groot en blink op
Helette gerig.

“Ja, Pappa troos vir tannie Helette.”

Helette hoor die ingehoue lag in Abel se stem. Die onskuld van ’n kind
darem! Maar die betowering van die oomblik is reeds verbreek.

Om dit nou te probeer hervat, sal onnatuurlik wees, daarom maak sy haar los
uit sy arms en staan effe terug. “Toemaar, Sanja, ek is nie meer bang nie, ek
kom saam met jou.”

Of dit ’n flits van teleurstelling was wat oor sy gelaat gegly het, weet sy nie,
dit was te vlugtig. “Sien jou later vanaand, ek moet met jou praat, Abel.”

“Dit klink ernstig,” sê hy, sy arms voor sy bors gevou.

“Dit is.”

Met Sanja aan die hand stap sy weg. Die klein klits het haar sake kom bederf.
Of het die kind haar dalk daarvan gered om ’n gek van haarself te maak?

Sou Abel vir Frank gevra het om hulle vanaand alleen te laat? wonder Helette
toe sy en Abel alleen aan tafel sit en sy sien die tafel is slegs vir twee mense
gedek. Net hulle twee. Abel aan die kop en sy langs hom.

Iemand moet vir Sarie die opdrag gegee het, want sy dek altyd vir drie.

Sanja is reeds rustig in droomland, doodtevrede dat Helette haar gebad het,
toegesien het dat sy eet en haar toe in die bed gesit het.

Natuurlik moes sy eers ’n storie vertel. Die klein asjas het Helette geleidelik
al hoe meer vir haarself begin inpalm. Helette glimlag by die besef dat haar
werkure as au pair onder dié aanslag al hoe langer geword het. Tog gee sy nie
om nie, solank dit nie met haar tyd soggens inmeng nie. Sy het lief geraak vir
die kind en sal nie droom om aan Abel te noem dat sy nou eintlik gereeld
oortyd werk nie. Hy het nooit laat blyk dat hy dit agtergekom het nie.

“Ou Frankie het seker ’n trekpleister, daarom dat hy nie hier is nie,”

laat Abel terloops val. “Nie dat ek kla nie, dis rustig so alleen met jou.

Sal ons ’n likeurtjie in die woonkamer gaan geniet, Helette?”

Weet Abel wat doen hy aan haar wanneer hy so vir haar kyk, wonder Helette,
met sulke sagte oë? Dit wat voorlê, wat sy hom moet meedeel, druk swaar op
haar gemoed, maar dit moet. “Kom ons gaan na my plek toe, daar’s iets wat
ek jou moet wys en vertel. Ek het ook likeur en koffie in my kombuiskas,”
nooi sy impulsief.
Fyn lagkreukels plooi langs sy oë. “Gaaf, ek het nog nooit by jou gekuier
nie.”

“Sit gerus,” nooi sy hees toe hulle in haar woonstel kom, “ek kook solank
koffiewater.”

“Gee die likeur en glase, dan skink ek,” maak hy hom in haar

kombuis tuis.

Hy laat hom ook nie voorskryf nie, dink sy terwyl sy die bottel likeur en
glase kry en vir hom aangee.

“Jy het dit baie mooi ingerig, Helette. Bly jy lekker?” vra hy toe hulle in haar
gesellige sitkamer koffie drink.

Sy bly al hoe lank hier en hy vra haar dit nou eers. “Ja dankie, Abel, dis ’n
heerlike blyplek.”

Later sit hy sy koppie op die koffietafel neer en kyk vraend na haar.

“Jy wou my iets wys, Helette?”

Aardetjie, hoe gaan hy op die waarheid reageer? Tien teen een is dit dalk vir
hom ’n yslike skok. Abel kom uit ’n gesin sonder geraamtes in die kas, sover
sy weet.

Die houtkissie staan op die koffietafel. Vir ’n oomblik ervaar sy spanning toe
sy die foto uithaal. “Kyk hierna en lees ook agterop.” Die skorheid in haar
stem kon sy nie weggesluk kry nie.

Lank en intens bestudeer hy die foto voor hy dit omdraai en lees.

Die stilte werk spannend op haar in. Hoekom sê hy niks? Dit lyk asof hy dit
oor en oor lees. Uiteindelik kyk hy op. “Arme Vera. En al die jare dra sy so
swaar hieraan dat sy jou toe vir Gertruida aansien. Ek moet sê, daar is nogal
’n vae ooreenkoms tussen julle twee.” Hy sit doodstil, diep in sy gedagtes
versonke.
Is dit al wat hy hierop te sê het? Tog kan sy hom nie verkwalik nie, hy weet
nog nie die drama is veel groter as dit wat agter op die foto geskryf staan nie.

“Arme Sandria,” glip dit sag oor sy lippe. “Hoe graag sou sy nie hierdie
sustertjie wou sien nie. Sy het so alleen grootgeword …”

Ek ook, skryn dit in Helette se binneste. As hy maar kan weet hoe graag sy
ook haar suster sou wou ken. Al wat sy nou van haar het, is die foto en Sanja.
Miskien Abel ook.

“Om te dink,” onderbreek Abel haar gedagtes, “iewers in Suid-Afrika, of


dalk oorsee, leef hierdie onbekende suster haar eie lewe. As

sy nog leef, bygesê. As ek net geweet het waar sy is, sou ek haar graag wou
opsoek.”

Die band om haar keel trek al stywer en Helette sluk vergeefs. Die verhaal
moet verder, sy mag nie nou kleinkoppie trek nie. “Hier.” Haar stem is slegs
’n fluistering.

“Ekskuus?” Hy skud sy kop asof hy nie mooi verstaan nie. “Is daar nog iets
wat ek moet sien?”

“Iets wat jy moet hoor. Dis ek. Ek is Sandria se halfsuster. Gertruida was my
biologiese ma.”

Verbyster kyk hy na haar. “Jy?” Hy skud sy kop. “Dit kan nie waar wees nie
…” Hy vryf verwilderd deur sy hare. “Ongelooflike toeval.”

Oorbluf kyk hy na haar, dan weer weg en skud sy kop. Vir lank sit hy
doodstil en staar asof hy byna van haar vergeet.

Glo hy haar nie? Haar slape klop swaar. Die ooreenkoms is tog duidelik. Sy
sal hom nie oor so iets probeer bedrieg nie.

Toe hy weer vir haar kyk, het al die lyne op sy gesig versag. Is dit deernis in
sy oë? “Wat ’n sameloop van omstandighede,” sê hy sag en vat haar hand.
“Uiteindelik maak dit sin. Ek het al so baie keer gewonder waarom jy my so
dikwels aan Sandria herinner; ’n sekere manier van kyk, soms ’n gebaar of
twee … Dan was dit nie my verbeelding nie.”

Hy los weer haar hand, stut sy elmboë op sy knieë en laat sak sy gesig in sy
hande.

Dit voel of haar emosies stol. Is dit vir hom so verskriklik?

“Ma Marna is my aanneemma. Die enigste ma vir my,” begin sy verduidelik.

Hy kyk stadig op, maar voor hy kan antwoord, bars die woonsteldeur oop en
Sarie storm binne. “Ag, jittetjie tog, ek soek die hele huis deur na Meneer.
Onse Frankie is in sy huis aangeval, Meneer!

Rowers. Hy’s geskiet. Hulle’t met sy kar weggejaag!”

Soos ’n koeël uit ’n geweerloop skiet Abel verby haar. Sonder om te

dink hardloop sy agterna.

Frank lê in sy ateljee op die mat. Bloed sypel uit sy regterbeen en regterhand.

Abel gee sy selfoon vir Helette. “Bel 10111 en dan die polisie. Dis gelukkig
net vleiswonde.”

Terwyl sy bel, sien sy hoe Abel sy hemp uitpluk, in repe begin skeur en die
wonde daarmee verbind.

Helette skink vir haar en Sarie brandewyn. Dis iets wat sy nooit drink nie,
maar dis al waaraan sy in haar geskokte toestand kon dink.

“Drink, Sarie, dan vertel jy my hoe het jy daarvan geweet.”

Die huis is doodstil en Helette is dankbaar Sarie is hier by haar. Abel is saam
met die ambulans hospitaal toe en sy wag in spanning om van hom te hoor.

Sarie gee nog ’n sluk, toe begin sy praat. “Frankie het gisteraand mense vir
ete gehad en lui soos hy is vir skottelgoed, gevra of ek vanaand na werk daar
by hom sal kom opwas. Ek sê nie sommer nee vir ’n ekstra geldjie nie.”
“Jy was dus in die kombuis toe die skote geklap het? En hulle het nie geweet
van jou nie?”

Sarie skud haar kop. “Nee. Moenie worry nie, ek het die polieste alles vertel.
Hoe hulle gevloek het, sy skilderye rondgegooi het en hoe ek gehoor het hoe
skiet hulle. Net so doef-doef. Hulle het seker silencers gebruik. Daarna is
hulle buitetoe. Ek het net gehoor hoe rev die kar toe hulle wegjaag. ”

Meer kan Sarie nie. Snik op snik skeur deur haar liggaam.

“Ek het gedink ons Frankie is dood,” kry sy dit later uitgewurg.

Helette wieg Sarie soos ’n kind in haar arms. Die aand het voorwaar sy eie
loop geneem.

VYFTIEN

Frank se bruin oë lyk moeg in sy bleek gesig. Tog glimlag hy verwelkomend


toe Helette nader stap. Abel sit reeds aan die ander kant van die hospitaalbed.
Seker direk van die werk af hierheen gekom, dink Helette. Sy buk en druk ’n
vlugtige soen op Frank se voorkop.

“Dankie dat jy vir die ou krok kom kuier.”

Sy glimlag bluf haar nie, sy kan sien hy is doodmoeg. “Ek gaan nie lank bly
nie, jy het rus nodig.”

“Bly gerus nog ’n ruk, ek moet in elk geval huis toe,” kom dit van Abel. “Ek
glo julle twee wil ’n bietjie alleen wees.” Hy vermy Helette se oë maar
borduur tog voort. “Daar is seker heelwat wat jy my broer ook wil vertel,
maar ek dink nie nou is die regte tyd nie. Soos jy kan sien, lyk die ou maar
goed moeg.”

Ergerlikheid stu deur haar. Moet hy altyd vir haar voorskryf asof sy

’n kind is? Sy is tog darem sensitief genoeg om te weet nou is nie die regte
tyd vir ingewikkelde gesprekke nie. Kan Abel dit nie in sy groot kop kry dat
daar niks tussen haar en Frank is nie? En sy het nogal gedink daar het ’n vonk
tussen haar en Abel ontstaan.

“My magtig, Abel, jy is die blindste, domste man wat daar is,”

antwoord Frank onverwags, goed kwaad. “Daar’s niks tussen my en Helette


nie. My vlerkslepery by haar was deel van ’n strategie.” Sy oë draai na haar.
“Jammer dat ek jou ook onder ’n verkeerde indruk gebring het, Helette, maar
ek wou my ouboet so jaloers maak dat sy oë eens en vir altyd kan oopgaan.
En die spel was natuurlik lekker. Abel, jy en Helette vrek albei oor mekaar.
Hou op skuldig voel oor Sandria en sorg dat jy Helette nie deur jou vingers
laat glip nie. Ja, ek is moeg en wil rus. En julle tweetjies gaan nou saam hier
uitloop en julle hartsake

gaan uitpraat. As julle weer hier kom, moet dinge reg wees. Toe, loop nou, of
ek lui die klokkie.”

Asof hy hulle twee en die hele wêreld wil uitsluit, maak hy sy oë toe en
ignoreer hulle verder.

Bang waag sy dit om na Abel te loer. Sy lippe is opmekaar gepers.

Wat gaan in sy gedagtes om? Skielik sien sy die komiese van die situasie in
en glimlag. So ’n karnallie van ’n Frank! Gee die duiwel wat hom toekom, hy
het meesterlik toneel gespeel, hy kon netsowel ’n akteur geword het.

Sy maak haar vinnig uit die voete. Om nou alleen met Abel te wees wil sy
nie.

Toe sy haar motor oopsluit en die hand op haar skouer voel, ruk sy verskrik
om met die eerste gedagte dat iemand haar motor wil kaap.

Maar dit is Abel. “Moet jy soos ’n dief op my afsluip?” Van pure skrik klink
haar stem buitengewoon skerp in haar eie ore.

“Ekskuus, Helette, ek wou jou nie skrikmaak nie, maar ons het nog
onafgehandelde sake. Sal jy asseblief saam met my gaan tee drink?”
Die atmosfeer tussen hulle is stil en stroef terwyl hulle vir hul bestelling wag.
Frank se woorde draal deur haar kop. Abel blyk ook met sy eie gedagtes
besig te wees.

“Kom stap saam met my deur die park hier naby,” sê hy toe sy haar leë
koppie neersit.

Sy knik en staan op. Hy vat haar hand toe hulle buite kom en sy kyk verbaas
na hom, baie bewus van sy growwe handpalm teen hare.

“Ek verdien Frank se teregwysing deur en deur. Hy is heeltemal reg, ek voel


skuldig oor Sandria, want ek moes haar gekeer het toe sy so fanaties begin
oefen het vir die Comrades-marathon.”

Verbaas luister sy na sy woorde. “En?” moedig sy hom aan. Sy kan aanvoel


dis vir hom moeilik om hieroor te praat.

“Haar liggaam kon die druk nie vat nie,” vervolg hy toe wel. “Sy het voor
haar dood gelyk soos iemand wat anoreksie het. Later het sy leukemie
ontwikkel en sy was al te ver heen toe sy dokter toe gegaan het. Ek moes my
voet dwars gesit het, haar gedwing het om dokter toe te gaan, maar … sy was
so koppig. Die Comrades was vir haar ’n uitdaging. Iets waarmee sy haar
staal wou bewys.”

Dan is dit hoe Sandria dood is. Deernis vir hom vul haar hart. “Dis nie jou
skuld nie, Abel, dit was mos haar keuse. Jy moet jouself vergewe ter wille
van Sanja.”

“Ek weet. Maar die spoke wyk nie so maklik nie. Sandria wou van niemand
raad aanneem nie. Dit kan dalk ongevoelig klink, maar sy was eintlik ’n
bedorwe brokkie, het as enigste kind altyd haar sin gekry en kon Martin en
Vera so lekker om haar pinkie draai. Ek het al haar nukke en giere geken.
Ons ouers was huisvriende, ons het saam grootgeword. Ons was oral saam,
ek, Frank en Sandria. Sy wou nooit terugstaan vir ons seuns waar dit
waaghalsigheid aangaan nie en het haar deur niks laat stuit nie. Ons seuns het
haar bewonder en toe ons op hoërskool was, het my bewondering oorgegaan
in verliefdheid.”
“Eerste liefde,” val Helette hom mymerend in die rede. “Volgens die kenners
is dit die grootste liefde wat mens kan beleef. Die suiwerste.”

“In my geval is hulle verkeerd,” sê Abel vinnig. “Ek het later eers besef vir
albei van ons was dit slegs verliefdheid. Sandria se lewe het net om haarself
gedraai. Miskien het sy nie eens agtergekom hoe egoïsties sy is nie.
Stadigaan het ek besef ons pas nie by mekaar nie.

Die aanvanklike verlief wees het ná ons troue begin taan.

“Dis toe dat sy langafstande begin hardloop het. Haar kompensasie.

Dit was vir haar ’n geweldige skok toe sy swanger raak en nie meer kon
deelneem nie. Ses weke na Sanja se geboorte het sy weer begin oefen. Ek het
gevoel sy skeep ons kind af.”

Voor sy kan dink, tuimel die woorde oor haar lippe. “En al die tyd het ek
gedink jou liefde vir haar was so ewigdurend dat jy nog nooit

haar dood kon verwerk nie. Dié dat jy …”

“Nog steeds sonder vrou is,” voltooi hy haar sin. “Het jy gedink ek treur
nog?”

“Wel … ja.”

Hy gee ’n snuiflaggie. “Natuurlik was ek hartseer oor haar dood. Ek het


gerou oor die maatjie uit my kindertyd. Die vrou wat sy geword het, was vir
my ’n vreemdeling. Nee, Helette, ek is nie treurend nie, ek was nog net te
versigtig om weer in ’n verhouding betrokke te raak. As ek weer trou, moet
daar waaragtige liefde wees.”

“En jy soek nog na ware liefde?”

“Ek het nog nooit doelbewus gesoek nie. Dalk is ek bang vir ’n tweede
mislukking. In ’n mate stem jy en Sandria baie ooreen.

Dieselfde sterk wilskrag, dieselfde magnetisme. Maar julle verskil ook baie.
Jy het meer deernis met jou medemens as wat Sandria gehad het.
Maar dat jy Sandria se halfsuster is, het my totaal uitgeboul. Ek sukkel nog
om aan die gedagte gewoond te raak.”

Sy weet sommer hy sien nie kans vir ’n verhouding nie. Nie met haar nie.
Wat nog te sê van liefde. Te dem met die drie maande kennis wat sy moet
werk, sy wil wegkom, Vaalbult toe. Hier sal sy hom altyd aan Sandria
herinner.

“Jy sal maar gewoond moet raak aan my en Sandria se verbintenis, dis ’n
voldonge feit waaraan ons niks kan verander nie, Abel.”

“Jy’s reg,” sê hy en klink verlig. “Dankie vir jou begrip en goeie raad. Dit
was tog goed dat ons paaie gekruis het.”

Geen belofte of aanduiding van enigiets tussen hulle in die toekoms nie. Wel,
Helette Boshoff het haar trots, besluit sy. Sanja se kinderhart gaan stukkend
wees, maar dit kan nie anders nie, sy kan nie langer saam met Abel du Vos
onder een dak bly nie.

SESTIEN

Helette vryf oor haar arms toe sy buite kom. Die oggendlug is reeds koel,
herfstig. Tog is dit so lekker om ’n vroegmôrekoffie hier onder die
populierboom te kom drink. Sy kan byna nie glo sy is al so lank hier op
Vaalbult nie. Abel het aan die begin dikwels gebel. Later seker moed
opgegee. Die gesprekke het stram gebly. Later het sy nie meer haar selfoon
geantwoord wanneer sy naam op die venstertjie verskyn nie.

Net soms gehoor hoe ma Marna met hom praat en verslag lewer oor Vera.

Sy verlang na Sanja, maar staal haar daarteen. En of sy dit wil erken of nie,
sy verlang na Abel. Die naweek toe hy wel vir Vera kom kuier het, was sy
Bloemfontein toe vir ’n simfonieuitvoering en, bang vir teleurstelling,
halfverlig dat sy hom misgeloop het.
“O, daar is jy, Let. Ek het gewonder wat het van jou geword.” Ma Marna sak
langs haar op die tuinbank neer. “Jy’s vroeg op, my kind.”

“Ag, ek wou maar net soos altyd my dag hier begin.” En my wegholgedagtes
probeer hokslaan. “Hoe gaan dit met Vera?” vra sy om moontlike vrae oor
haarself te vermy.

“Baie goed,” antwoord haar ma, “ek dink beter as met party ander mense.”

Oe, oe, hier kom dit. En soos sy ma Marna ken, sal geen jakkalsdraaie haar
nou red nie.

“Wat is dit tog met jou en Abel, Helette? Ek weet julle is lief vir mekaar,
maar nou vermy jy hom so dat hy skoon moed opgegee het.”

“Ma! Is dit my skuld?”

“Helette, ek weet julle het mekaar lief. Hy het al so baie probeer kontak
maak, maar jy vermy hom.”

“Waarom kan hy dit nie vir my sê nie? Dat hy my liefhet nie.”

“Hy wil dalk. Ek dink hy’s bang.”

“Bang?” Helette kan nie glo wat sy nou hoor nie. “Ek het hom nog nooit
bang gesien nie. Hy weet goed wat hy in die lewe wil hê. Nee, my ou
moedertjie, as Abel my liefhet, sou hy dit lankal vir my gesê het. Sy laaste
woorde aan my was dat dit goed was ons paaie het gekruis. Dit het na ’n
finale afskeid geklink.”

“Ag, Heletjie, mans is baie broos waar dit hulle hartsake aangaan.

Hy praat baie met my oor die telefoon, eintlik maar om nuus oor jou te kry.”

“Het hy iets laat val … van …?”

Ma Marna skud haar kop. “Ek sê niks, my kind. Praat net volgende keer met
hom wanneer hy bel.”
Haar ma spring op toe die telefoon in die huis begin lui. “Dit sal my nie
verbaas as dit Abel is nie,” sê sy oor haar skouer terwyl sy die huis in draf.

Helette knik vir die motorwag om haar kar op te pas en rek behoorlik haar
treë. Mag sy tog betyds wees, bid sy sag, sy moet vir Sanja sien voor sy teater
toe geneem word.

Dit was toe Abel wat gebel het om te sê Sanja se mangels word uitgehaal.
Toe ma Marna met die nuus by haar kom, het haar hart net oorgeneem.
Sonder om twee keer te dink, het sy reggemaak, haar ma gegroet en in die
pad geval.

Abel sit met sy rug na die deur toe sy die vertrek instap, maar spring dadelik
op toe Sanja Helette se naam noem. Sy verbasing, en toe blydskap, verdwyn
vinnig agter ’n waaksame masker.

Helette neem die wisselende emosies slegs vlugtig waar.

“My goeie fee, Pappa.” Sanja steek haar armpies na Helette uit.

“Nou’s ek nie meer bang nie.”

Helette omhels die kinderlyfie spontaan. “Natuurlik het ek gekom, ek sou


mos nooit wegbly nie. Ek sal hier vir jou wag tot hulle jou terugbring.”

Stil sit hulle en wag dat Sanja uit die teater kom.

“Dankie dat jy gekom het, Helette.” Sy stem klink soos gruisklippers wat
teen mekaar skuur.

Helette merk die spanning om sy mond en oë wat hom opeens weerloos laat
lyk. Is ma Marna dalk reg? Sy weet vir seker hierdie man besit haar hart. Sy
het hom lief, die hele pakket wat Abel is, fisiek, emosioneel. “Ek is baie lief
vir Sanja. Ek sou nooit weggebly het nie.

Dankie dat jy laat weet het.”

’n Spier spring in sy wang. “Sanja het bly kerm ek moet jou laat weet.”
Is dit al rede waarom hy laat weet het? Sy het so gehoop …

“Ek sou in elk geval laat weet het, al het Sanja nie daarop aangedring nie.”

Ligborreltjies sweef in haar kop. Sy onthou weer ma Marna se woorde.


Miskien is hy een van daardie mans wat sukkel om sy emosies onder woorde
te bring.

“Ek het geweet jy sal hier wil wees,” vul hy aan.

Sy kyk verras na hom. “Ek sou jou baie kwalik geneem het as jy nie laat weet
het nie.”

“Ek weet. Ek ken jou teen hierdie tyd al baie goed. Beter as wat jy dalk
besef.”

Sy moet net keer dat haar mond nie oopval nie.

Dis eers die volgende aand wat hulle Sanja huis toe kan neem.

Helette ry met haar motor agter Abel aan. Sy het vir ma Marna laat

weet sy kom nie huis toe nie, sy wil die nag by Sanja bly, ingeval die kind
haar nodig kry. Abel is wel ’n handige pa, maar gaan dalk meer as twee
hande nodig hê.

Gelukkig is Sanja gou rustig in droomland en kan hulle iets te ete gaan kry.
Hulle het feitlik heeldag van koffie en hospitaaltoebroodjies geleef en Helette
se mond water behoorlik toe sy die koue hoenderdytjies sien wat Abel uit die
yskas opdiep.

Hoe bekend lyk alles nie. Pynlik herroep sy herinneringe aan die weke toe sy
in hierdie woonstel gebly het. Dit was so ’n wonderlike tyd. Dankbaar dat
Abel haar dit gun om alleen hier te kom rondloer, loop sy van vertrek tot
vertrek. In die ateljee gaan sit sy voor die klavier en druk ’n paar akkoorde tot
haar vingers oor die klawers begin vlieg.

Na die laaste akkoord sit sy ’n oomblik toe-oë om die oomblik gevange te


hou.
“Weet jy hoe het ek dit gemis …”

Sy het hom nooit hoor inkom nie. Hy sit agteroor in die leunstoel, sy bene
lank voor hom uitgestrek.

En dan sien sy dit. Rou, intens, brandend, die begeerte in sy oë. Die oertaal
wat geen woorde nodig het nie. Maar sy sien meer: liefde, onverbloemde
liefde. Was sy dan nog al die tyd blindemol? Ma Marna was reg, hierdie
groot, sterk man is innerlik so broos dat hy nie sover kon kom om sy liefde
vir haar onder woorde te bring nie. Sy weet dit nou, met die instink van ’n
vrou wat liefhet.

Stadig loop sy tot voor hom en hoop hy sien die liefde in haar oë ook.

Dit voel of haar kop suis van benoudheid. Sy het die eerste paar tree gegee.
Gaan hy reageer? Was die liefdevolle blik net haar verbeelding?

Maar toe hy steeds bly sit, draai sy om en stap weg. So byna het sy

’n gek van haarself gemaak.

Toe is sy arms meteens in ’n staalgreep om haar en hy druk haar styf teen


hom vas. “Helette Boshoff,” praat hy in haar hare, “as jy maar

weet hoe lief ek jou het. En hoe bang ek was dat alles tussen ons verlore is.
Ek was so bang jy dink ek soek net ’n ma vir Sanja. Maar ons kan later praat,
nou wil ek eers doen wat ek daardie ander aand wou doen toe Sanja ons kom
steur het. En al val die hemelruim op ons, gaan niks my nou keer nie.”

Sy mond kom vol begeerte op hare neer. Hy verken en eis en vertroetel soos
’n man wat liefhet. Sy hande is sag en strelend en vol beloftes van waartoe hy
in staat is. “Helette, ek het jou lief met alles in my. Lief soos my eie lewe.
Lief soos my eie liggaam, soos die Boek sê.”

Al hoe teerder raak sy soene, tot sy mond later teen haar slape tot rus kom.

“Ek het jou al lankal lief, maar wou jou eers goed leer ken.”

“En ek was weer bang jy dink ek is net ’n gerieflike au pair.”


Hy lag saggies en druk haar teen hom vas. “Ek moet bieg. Ek het ’n agenda
gehad toe ek jou op Vaalbult gaan vra het om tog maar te kom au pair. Dit
was ’n manier om jou in my huis te kry, naby my te hê sodat ons mekaar
beter kon leer ken.” Hy streel oor haar hare. “En ek wou sien hoe jy en Sanja
met mekaar oor die weg kom. My dogter is my hart se punt.”

Sy gee hom ’n speelse houtjie teen die bors. “O so, en het ek die toets
geslaag?”

Hy knik. “Met volpunte. Onthou jy die dag toe jy Sanja se hare geborsel het
en ek vir julle staan en kyk het?”

“Ek het jou in die spieël gewaar,” onthou sy.

“Jy’t daar jou slaagpunt gekry toe ek sien hoe mooi jy met my kind werk.
Liefdevol en sag. En Sanja wat vol verering na jou kyk. Ek het geweet ons sal
’n gesin kan wees. Ek was net nie seker hoe jy oor my voel nie.”

“Hoekom het jy nie probeer uitvind nie, Abel?”

“Want daar was Frank. Ek het gevoel jy moet die keuse maak.”

“Frank was vir my die vriend wat ek nodig gehad het. Jy’t tog

gehoor wat hy in die hospitaal gesê het.”

Hy knik. “Dit was sy kant van die storie, Helette. Ek het steeds nie geweet
hoe jy oor hom voel nie.”

“Ek het hom aantreklik gevind. Aangename geselskap. Maar hy was nie jy
nie. Dit sou onregverdig teenoor hom wees om …”

Hy smoor haar woorde met sy mond.

Dis soos ’n droom, dink Helette. Soos ’n rusplek vir die voet ná stormwaters.

“Helette, kan ek en jy maar ons skape in een kraal jaag en saam met Sanja ’n
gesin word?”
“Bedoel jy …?”

“Ja. Ek wil met jou trou. Op my ouderdom hoef ek nie meer ’n sak sout op te
eet nie. Hoe gouer, hoe beter.”

“Maar ek is veel jonger as jy,” terg sy, “ek het dalk die sak sout nodig.”

“’n Halwe sak. Nee, ’n kwartsak.” Hy klink baie beslis.

“’n Kwartsak sal my kans gee vir al die voorbereidings.”

“Wil jy ’n groot troue hê?” vra hy versigtig.

Sy kan nie help om te lag nie, want sy kan raai hoe hy daaroor voel.

“Nee, man, piepklein en intiem.”

“Sê ek ook. Maar moenie dat finansies jou keuse beïnvloed nie. As jy ’n
groot troue begeer, sal ek natuurlik die koste dra.”

“Ek het nie veel familie nie. Jy ook nie juis nie. Ons wil tog nie al jou
kollegas en die SWEM-lede daar hê nie. Dus, klein.”

Met haar in sy arms swaai hy haar uitbundig in die rondte. Toe sit hy haar
stadig neer, hou haar ’n ent van hom af weg en kyk na haar, ’n sagte lig in sy
oë. “Doktor Boshoff, jy het dus met ’n agenda die pos as au pair aangeneem.
Familienavorsing, nè?”

Sy hoor die skerts in sy stem en verkyk haar aan sy silwergrys oë hier dig by
haar.

“Daarvoor gaan jy betaal, hoor.”

Sy maak haar oë by voorbaat toe en wag dat hy haar moet soen. Toe dit nie
gebeur nie, vlieg haar oë weer oop, vas in sy ernstige blik. “En nou?” wil sy
benoud weet, bang vir nog ’n spook uit die verlede wat dalk kan opduik.

“Ek wou my kans gebruik om jou deeglik te bekyk. Dis die eerste keer dat ek
dit van so naby af kan doen. Jou wimpers lyk soos sysagte waaiers,” fluister
hy en soen haar teer op elke oog. “Jou oë lyk soos blink swart toermalyne, en
jou mond … lyk uiters soenbaar.”

Warm en sag vee sy mond oor hare, terg met ligte soene tot sy sag kreun van
ingehoue passie. Hy beantwoord haar verlange met drif en sy mond begin al
hoe meer eis. Sy voel sy hande in haar hare, sy lyf warm teen haar lyf en ruik
die bekende suurlemoengeur.

“Luister nou mooi, Helette Boshoff,” sê hy heelwat later, “ek herhaal wat ek
vroeër al gesê het, ek het jou baie lief, soos my eie lewe. So lief dat ek jou
Helette du Vos wil maak. Ek dink hierdie goeie fee het my by die eerste
aanblik al getoor en onder haar betowering geplaas.”

Sy lag sag en gelukkig. “Maar toe dink jy ook eers ek is ’n heks.”

“Blindemol gewees, ja, tot my liewe broer my oë moes oopmaak.”

“Van Frank gepraat, toe jy my Oukersaand in sy arms betrap het, was hy


gedrink en het hom aan my opgedring. Hy het hom nog nooit weer daarna te
buite gegaan met drank nie. Waarom daardie aand?”

“Ek is nog al die tyd jammer oor my reaksie daardie aand, Helette.

Ek het eers agterna, toe ek Frank onder vier oë gespreek het, besef hy was
gedrink. Ek moes dit eintlik geweet het, want dit gebeur elke Oukersaand.”
Hy trek haar styf teen hom vas en praat dig teen haar slaap verder. “Sy
verloofde het drie jaar gelede op Oukersaand verongeluk.”

Sy trek haar asem in. “Wat vertel jy my? Arme Frank. Dan ken hy ook al die
seer kant van die lewe.”

Abel vryf sag oor haar rug. “Ja, my kleinboet is al deur diep waters.

Die ergste is, Frank het die motor bestuur. Dit was ’n kop-aan-

kopbotsing. Hy het ook maar net met sy lewe daarvan afgekom, maar die
verwyt vreet nog steeds aan hom.”

“En om sy lewe daarna te hervat, kon nie maklik wees nie,” sê sy peinsend.
“Ja,” beaam Abel, “hy het al baie gely onder selfverwyt. Al het ek my hart op
jou verloor, was ek juis daarom bereid om terug te staan, omdat ek gedink het
Frank is verlief op jou. Verstaan jy nou my sporadiese buierigheid? Om jou
heeltyd te sien, maar jou vrywillig op die altaar te lê, het al my wilskrag
gekos. Toe besluit ek om alleen met jou en Sanja na Lakenvlei te gaan, want
ek wou toets hoe jy regtig voel.” Hy vee sy vingers deur sy wit kuif en lyk
baie verleë.

“En toe fnuik ek jou planne deur Frank saam te nooi. Praat van voorbarig …”

“Dit kan jy nog ’n keer sê.” Hy trek haar vaster teen hom aan. “Ek wou hom
al die geluk gun wat hy kon kry.”

“Ten koste van jouself. Abel du Vos, jy’s die onselfsugtigste man wat daar
is.”

“Ken jy die lied, ‘He ain’t heavy, he’s my brother’?”

Sy knik. “Die man wat sy broer wat nie kon loop nie, gedra het na hulle
bestemming. Al was dit moeilik, het hy dit vir sy broer gedoen.”

“Net so,” gly sy stem warm oor haar. “Bloedbande. Deur dik en dun.”

“Ek het by Leliestraat 10 na my bloedbande kom soek en nie heeltemal gekry


wat ek wou nie. My soektog het uiteindelik tog goed geëindig. Ek het my
wortels gevind, vir Sanja, en as bonus vir jou.

Weet jy hoe het ek as kind begeer om ’n broer of suster te hê? Nou het ek
sommer vir Frank as broer gekry.”

“Helette, ek het jou so lief soos my lewe.”

“Ek het jou ook baie lief, professor Du Vos. Ek dink ook van die begin af.”

Hy streel haar wang. “Pak tog maar daardie geel kortbroek van jou

ook in jou wittebroodstas dat ek my ordentlik kan verkyk aan jou. Ek moes
die dag toe jy dit aangehad het so ongemerk probeer loer,” sê hy met ’n
tergerige lag in sy stem.
Sy beur weg van hom af. “Ek was daardie dag so boos vir jou, ek het glad nie
eens omgegee hoe ek lyk nie.”

“En ek was net so boos vir jou,” lag hy. “Maar jou paar bene het my bly
terg.”

Sy kan maar net sag saam lag.

Toe verdonker sy oë weer en hy kyk intens na haar. “Vrou van my hart,”


fluister hy skor, “ek is so bly jou soektog het hier by my geëindig.”

“Ek ook,” beaam sy.

Toe glim die tergliggies weer in sy oë. “Mag ek maar weet waarom daar nog
nooit ’n verloof-en trouring aan jou vinger gepryk het nie?”

Skielik kan sy nie glo sy het haar so lank oor Chris verknies nie.

“My kêrel op universiteit het my gelos vir iemand anders, maar …”

“So ’n blikskottel,” kom dit vinnig van Abel. “Ek is so bly hy het dit
gedoen.”

“En ek is net so bly daaroor,” laat sy vrolik hoor. “En jy kan bly wees dat ek
so lank oor hom getreur het, anders was ek nie nou hier nie.”

Hy lag hartlik. “Ek is baie bly dat ek die een is wat jou van die rak af kon
tel.” Sy gesig versomber weer en hy is die ene erns. “Ek is so dankbaar ons
paaie het wel gekruis.”

“Ek ook,” beaam sy met ’n kopknik. “Dankie vir jou liefde, Abel.”

En dankie, Gertruida en Martin, vir julle aandeel in my lewe, kom dit


ongevraag by Helette op.

Daar is so baie mense, dood en lewend, teenoor wie sy dankbaar voel.


Sandria, die sus wat sy nooit geken het nie. Klein Sanja wat in haar hart
gekruip het.
En ma Marna, haar grootmaakma.

Annetjie van Tonder woon op Klerksdorp in Noordwes. Sy ervaar die skryf


van romanses ’n wonderlike terapie vir die verlange na haar kinders wat
almal ver woon: twee kinders oorsee en een in Pretoria. In haar knus
meenthuis dagdroom sy baie en so ontstaan meeste van haar verhale.
Gelukkig is haar man iemand met sy voete plat op die aarde en behartig hy
hulle finansiële sake met groot noukeurigheid. Sy kan sodoende kommervry
haar aandag aan haar skryfwerk gee. Sy het al ’n paar kortverhale in
tydskrifte gepubliseer en skryf verder ook gedigte.

Haar drie kleinkinders is haar hart se punt.

Vorige titels deur Annetjie van Tonder:

NUWE SEISOEN

HAAR ANDER HELFTE

NOOIT WEER ALLEEN

LIEFDESWEB

Romanza is ’n onderafdeling van LAPA Uitgewers (Edms.) Bpk.

Bosmanstraat 380, Pretoria

Tel: 012 401 0700

E-pos: lapa@lapa.co.za

www.lapa.co.za

© Teks: Annetjie van Tonder

© Publikasie: LAPA Uitgewers (Edms.) Bpk.

Sagteband ISBN 978-0-7993-5143-9


ePub ISBN 978-0-7993-5306-8

Mobi ISBN 978-0-7993-7817-7

© Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige
manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die
kopiereghouers nie.

Inhoudsopgawe

Titelblad

Een

Twee

Drie

Vier

Vyf

Ses

Sewe

Agt

Nege

Tien

Elf

Twaalf

Dertien

Veertien
Vyftien

Sestien

Oor die skrywer

Kolofonbladsy

SPROKIE VIR’N

BOSNIMF

VERA WOLMARANS

www.lapa.co.za

EEN

“Bedrieg my oë my, of is dit ’n vrou wat in daardie oop kol tussen die bome
staan?”

Die vlieënier van die helikopter kyk in die rigting wat deur die passasier
aangewys word. “Jy is reg, kaptein.” Hy laat sak die helikopter sodat die
boomtoppe ’n wilde riel in die wind van die rotorlem dans. “Nogal ’n mooie
daarby.”

Met haar een hand soos ’n sonskerm bokant haar oë, kyk die meisie op na die
helikopter wat haar vlamrooi hare woes rondpluk en in lastige slierte oor haar
gesig slinger. Sy lig haar ander hand in ’n groet terwyl ’n glimlag haar tande
wit in die skerp sonlig laat blink.

“Magtie, ek dag die mense is in kennis gestel om nie vandag in die bos en
plantasies te werk of te kampeer nie. Hoe gaan ons ’n voortvlugtige
misdadiger andersins opspoor en vastrek sonder dat onskuldige omstanders
beseer word?”

“Ek sal die soekgeselskap met die honde kontak sodat hulle haar kan
verwyder. Die ander lede van haar groep is waarskynlik ook in die
omgewing.”

“Komplikasies,” brom die kaptein ontevrede. “Indien Hendrik Human in haar


vasloop, kan dit op ’n gyselaarsdrama uitloop. Bygesê, as hy nie dadelik haar
mond snoer nie. Met dié dat hy ’n verhoorafwagtende vermeende verkragter
en moordenaar is, kan hy nie veel verloor met nog ’n wrede misdaad of twee
op sy kerfstok nie.”

Terwyl die vlieënier per radio met die soekgeselskap praat, fynkam die
kaptein die omgewing met die verkyker. Hoewel hy geen verdagte bewegings
opmerk nie, beteken dit nie dat die meisie veilig is nie. Onder die bome is die
struikgewas so dig dat iemand daarin kan skuil sonder om uit die lug
opgemerk te word. Human het goed beplan toe hy ná sy ontsnapping met ’n
gesteelde motor hierheen gevlug het. Oor die rûens en in die diep klowe is die
bome en bosse so ruig dat die soektog uit die helikopter byna nodeloos is.

Hulle enigste hoop is dat die honde sy spoor sal kry.

“Ons kan maar verder, kaptein. Die meisie is Rooibaard Andries Brink se
kleindogter. Sy bly by hom en hy is ’n beneukte blikskottel. Hierdie bos en
plantasies behoort juis aan hom.”
“Ja-ja, ek stel nie in die oupa belang nie. Dis oor die meisiekind dat ek
bekommerd is.”

“Sy sal oukei wees, die voetpatrollie is nie ver hiervandaan nie. Hulle sal haar
huis toe vergesel en sorg dat sy en die oupa veilig is. Sal ons verder gaan?”

“Maak so. Indien ons Human nie opspoor nie, sal ek later by hulle ’n draai
maak en dit op hulle harte druk hoe gewetenloos Human is. Indien nodig, kan
ons iemand afstaan om hulle op te pas tot die misdadiger agter slot en grendel
is waar hy hoort.”

“Dis duidelik dat jy nog nie met Rooibaard Andries Brink ’n potjie geloop
het nie,” grinnik die vlieënier. “Daar word vertel dat hy eers skiet en dan vrae
vra. Human sal sy gat sien as hy met die oubaas probeer kragte meet!”

Tanya staar die helikopter fronsend agterna tot dit agter die hoë bome
verdwyn. Dit behoort aan die polisie en al rede waaraan sy kan dink, is dat
iemand verdwaal het en daar na hom of haar gesoek word. Vir haar wat in die
wildernis grootgeword het, is die gedagte om te verdwaal vreemd, maar sy
weet dat stedelinge maklik koers kan verloor en in kringe loop tot hulle later
uitgeput ineenstort.

Dan bereik ’n ander geluid haar ore. Dis die geblaf van honde. Voëls vlieg uit
die bome op nadat hulle pas rustig geraak het ná die vertrek van die
helikopter. Deksels! Sy het ’n lang ent gaan stap omdat sy vrede en stilte
gesoek het om haar gedagtes hulle loop te laat neem, maar nou is daar beslis
nie sprake van nie. Sy kan netsowel huis toe loop en gaan kyk wat sy vir
middagete kan maak. Dwergie Dennebol moet self sien kom klaar tot sy ’n
oplossing vir sy probleem kan uitdink.

Die blaffende honde vergesel van bevelende stemme laat haar vinniger loop.
Sy het ’n voordeel bo die soekgeselskap omdat sy ’n kortpad huis toe ken.
Die honde sal sy nie kan fnuik nie, maar hulle is per slot van rekening nie op
háár spoor nie. Sy soek skuiling agter ’n boom en kyk na die mans en honde
wat vassteek waar sy op die voetpad gestap het.

Die opgeleide diere met hulle intelligente gesigte en gespitste ore kyk
reguit na haar, maar soos sy verwag het, kom hulle nie na haar toe nie. Hulle
hanteerders vryf aanmoedigend oor hulle koppe, hou ’n kledingstuk voor
hulle kwylende bekke en hits hulle aan om die eienaar daarvan op te spoor.

Ná ’n laaste blik in haar rigting, drafstap die honde met hulle snoete naby die
grond verder. Die persoon na wie hulle soek, het dus ook hierdie voetpad
gevolg. ’n Paar oomblikke oorweeg sy dit om hulle met die soektog te help,
maar besluit as hulle haar hulp nodig het, kan hulle daarvoor vra.

Sy wag tot die geblaf van die honde al verder en verder opklink voor sy
aanstaltes maak om uit haar skuilplek te kom en tussen die plantegroei deur te
stap huis toe. Haar gedagtes bly by die helikopter en die soekgeselskap.

Hopelik spoor hulle die afgedwaalde gou op, want daar is ’n skaars
waarneembare klammigheid in die lug as voorteken van ’n naderende
weerverandering. Dit kan óf reën óf mis wees. Albei is gevaarlik vir iemand
wat nie die omgewing ken nie. Hoewel die rûens nie berge is nie, is daar tog

’n paar hoë kranse en indien iemand daar sou afval, kan hy ernstig beseer
word.

Eindelik bereik sy die hoogte waar haar oupa se huis tussen die hoë bome en
groot klippe nestel. Net haar oupa sal ’n huis as deel van die natuur bou
sonder om ’n enkele boom af te kap of die klippe te laat verwyder. Dit lyk
byna asof die huis saam met die bome opgekom en gegroei het tot die
struktuur wat dit nou is. Sy kan nie anders as om haar telkens te verwonder
oor die kundigheid waarmee die mure rondom en bo-oor die gladde
rotsblokke gebou is nie. Volgens haar oupa het dit hom jare geneem voor hy
eindelik tevrede was met die eindresultaat. Waarom hy die yslike kasarm
gebou het, begryp sy nie, behalwe as dit sy manier was om sy eensaamheid te
besweer ná ouma Bellie se dood en toe sy enigste seun gedurende sy skool-en
studentejare in koshuise gebly het.

Nie dat haar oupa die indruk wek van iemand wat ooit eensaam kan wees nie.
As hy nie iewers in die wildernis stap nie, sit hy ure lank op die ruwe
houtbank langs die huis en hou die voëls met sy verkyker dop. Gewoonlik lê
sy sketsboek en potlood langs hom en sal hy die voëls en hulle gedrag skets
of veranderings aan bestaande sketse maak tot hy tevrede is met die
eindresultaat. Ook hulle gedragspatrone word tot in die fynste besonderhede
neergeskryf. Wanneer hy eindelik sy sketse en bevindings vir publikasie
voorlê, wat uitgegee en wêreldwyd versprei word, oes hy lof in as ’n
voëlkenner by uitnemendheid. Komplimente maak hom verleë en dan maak

hy dit gewoonlik skertsend af dat hy sy graad in ornitologie nie in ’n


gelukspakkie gekry het nie.

Dis seker by hom dat sy haar liefde vir die geskrewe woord geërf het. Al
verskil is dat sy haar in die wonderwêreld van fantasie inleef en dus sprokies
skryf en dit ook illustreer. Sy het haar meestersgraad in Afrikaans behaal met
fantasie en kinderverhale as die onderwerp van haar studies. Mense het al
gesê sy mors haar talente op kinderboeke en dat dit lonender sal wees om
romans te skryf, maar sy laat haar nie oortuig nie. Sy skryf nie vir geld nie en
die ryk verbeelding van kinders inspireer haar om daarin te deel en dit uit te
bou.

Haar gedagtes word onverwags deur ’n skril fluit onderbreek. Sy skrik nie,
kyk net rond tot sy haar oupa langs ’n boom sien staan. Soos gewoonlik het
hy gemaklike stapstewels aan, hou ’n wandelstok in sy een hand vas en dra
op sy rug die sak met sy sketsboek en potlode. Sy grys hare met die rooi
skynsel daarin word deels onder die geruite pet versteek wat hy tot naby sy
oë aftrek om die skerp lig te keer. Die rooi van sy baard is deurspek met wit
strepe. Sy gesig is verweer soos gelooide leer.

“Oupa!” groet sy hom opgeruimd en stap nader. Hulle het al baie jare die
gewoonte om vir mekaar te fluit omdat klank misleidend deur die kranse en
klowe verwring en geëggo kan word. “Ek het Oupa nie so vroeg terugverwag
nie.”

Hy haal sy skouers ongeduldig op. “Geen ordentlike voël sal op een plek bly
sit terwyl ’n oorgroot eierklitser bokant sy kop woer-woer nie. Waarna kyk jy
so aandagtig?”

“Ons huis,” antwoord sy ernstig. Hy trek ’n ruie wenkbrou vraend op en sy


verduidelik: “Elke keer as ek dit sien, lyk dit anders. So asof Oupa ’n stuk
aangebou of weggetoor het.”
“A!” grinnik hy tergend en vervolg dan kamma ernstig: “Dis hoe ek dit
beplan het. Hoe vervelig sou ’n vierkantige baksteenhuis met ’n spitsdak nie
gewees het nie.”

“Oupa speel,” antwoord sy laggend.

“Ek sal nooit grappies maak oor iets so belangrik soos ons huis nie.” Tog is
sy seker dat sy humor in sy blou oë sien blink. “Dis ’n optiese illusie wat die
voorkoms van die huis telkens anders laat lyk. As jy dit uit ’n ander rigting en
hoek benader, of die sonlig en skaduwee beurtelings verskillend daarop val,
of …”

“Of Oupa is besig om my been te trek,” val sy hom in die rede.

Hy swaai sy vinger berispend heen en weer en frons kwaai, hoewel dit geen
indruk op haar maak nie omdat sy hom so goed ken. “Ek wou bygevoeg het
of dat dit jou lewendige verbeelding is wat allerlei magiese kragte aan die
huis toedig. Jy met jou sprokies van lekkergoedhuise en goue voetpaaie.”

Sy vou haar arms liefdevol om haar oupa se lyf en soen hom op sy bebaarde
wang. Hoe lief is sy nie vir hierdie dierbare ou man nie. Wat sou van haar
geword het indien hy nie daar was om haar te versorg nadat haar ouers dood
is nie?

Andries Brink ken haar so goed dat hy die verandering in haar luim
waarneem voor sy self eens daarvan bewus geword het. “Hoekom word die
blink ogies skielik so dof?” verneem hy belangstellend.

“Ek het sommer gewonder wat sou van my geword het as Oupa nie daar was
om vir my te sorg nadat Mamma en Pappa dood is nie.”

“Asof dit vir een sekonde ’n oorweging was dat jy elders sou gaan bly het.

Die vroumens van die welsyn wou nog sus en so, toe swaai ek my vinger
onder haar neus – soos ek pas met jou gemaak het – en vertel haar waar
Dawid die wortels gegrawe het, en toe sy dit daarna wou waag om nog iets
by te voeg, toe sit ek die honde op haar.”
“Oupa!”

“Ja, toe, nie letterlik nie. Ek ken my maniere. Kom nou, laat ons gaan koffie
soek terwyl ons saam by die huis is. Ek wonder watter stomme vent of
vroumens het nou weer beterweterig die bosse ingevaar en toe verdwaal. As
dit so aanhou, sal ek die wildernis moet omhein, al stuit dit my teen die bors.

Alla mastig, het ’n mens dan nie rus en vrede in jou eie domein nie?”

“Nou oordryf Oupa,” sluk sy haar melancholie weg. “Wanneer laas moes
iemand gesoek word wat verdwaal het? Seker meer as ’n jaar gelede. Vandat
Riek die bestuur van die avontuurkamp oorgeneem het, sorg hy dat die mense
hulle by die reëls hou en van ons grond af bly.”

“Ja, jy is seker reg,” brom haar oupa ongeduldig. “Ek hoop hulle kry die
mens gou, dit lyk my daar is ’n storm aan die opsteek.”

Tanya weet van beter as om haar oupa se voorspelling te bevraagteken.

Self voorsien sy nie ’n storm nie, maar sy gaan nie stry nie. Oupa bly al twee
keer so lank as wat sy oud is in die wildernis en as daar een mens is wat die
natuur ken, is dit hy. Die wildernis, dink sy as nagedagte, en dit amuseer haar
steeds dat van hulle grond as die wildernis gepraat word. Dit is in der

waarheid ’n byna onherbergsame omgewing, maar dis nie werklik onbegrens


nie. Aan die een kant loop dit teen die strandmeer en see dood en meer na die
binneland ontaard dit in plantasies wat deur verskeie eienaars bedryf word.

Nogtans word oupa Andries se wildernis as ’n bewaringsgebied erken en


gerespekteer.

“Wat gaan ons eet, Ounooi?” verneem Andries Brink by sy kleindogter voor
hy die homp beskuit in sy koffie doop. Tussen die twee van hulle is nie een
seker wat volgende op die spyskaart sal wees nie. Albei is ewe verstrooid
waar dit by alledaagshede soos kos voorberei en etes beplan kom. As dit nie
vir Sofia Ortlap was wat sorg dat daar voedsame etes gekook word nie, sou
hulle van beskuit geleef het – indien een van hulle onthou het om beskuit by
die tuisnywerheid te koop.
“Ek dink daar is nog van die herderspastei van gisteraand oor. Ek sal dit nou-
nou opwarm nadat ek my hande gaan was het.”

“Goed,” mompel Andries met ’n mond vol beskuit. Naweke wanneer Sofia
nie daar is nie, leef hulle van oorskietkos.

Tanya voel skuldig omdat sy as vrou van die huis haar pligte skandelik
verwaarloos. Mamma Sofia hét haar geleer om te kook en as student was dit
gereeld haar beurt in die kommune waar sy gebly het om vir aandete te sorg,
maar Oupa is so inskiklik dat hy haar nog nooit aangevat het omdat sy laks in
die kombuis is nie. Dus is dit eintlik sy skuld dat sy nooit help met die kokery
nie, verontskuldig sy haarself guitig. Syne en natuurlik dié van mamma Sofia,
wat alte graag gehelp het om haar tot in die afgrond te bederf.

Haar slaapkamer is steeds dieselfde een waar sy sedert haar vroegste


kinderjare gebly het. Deur die jare het die dekor verander om by die
verskillende stadiums van haar lewensgang aan te pas. Uit haar kamer stap sy
deur na haar ateljee en aangrensende badkamer. Die ateljee is ’n ruim vertrek
wat lank gelede haar ouers se slaapkamer was, maar ná haar ouers se dood
het haar oupa haar gehelp om dit eers in ’n speelkamer, later ’n studeerkamer
en eindelik in die ateljee te omskep. Saam het hulle besluit om die venster in
die buitemuur te vergroot sodat die hele muur uit glasskuifdeure bestaan om
genoeg lig deur te laat. Dit bied haar ’n ongelooflike uitsig oor die golwende,
digbegroeide landskap tot waar sy op ’n helder dag die blou strepie kan sien
waar dit teen die see doodloop.

Pas nadat sy haar gesig en hande gewas het, stap sy terug na haar slaapkamer
om haar hare te kam. Heel onverwags hoor sy die fluit waarmee

haar oupa haar roep. Met die kam steeds in haar hand draf sy deur die
oënskynlike doolhof van gange, portale en trappe na die voordeur waar haar
oupa dit in antwoord op die klop oopgemaak het om die besoekers te
ontvang. Haar hart klop onstuimig. Hoekom was dit vir haar oupa
noodsaaklik om haar byderhand te hê toe hy die swaar houtdeur oopmaak?

Verwag hy onaangenaamheid of moeilikheid? Hoewel hulle nie baie sosiaal


is nie, is hulle nie heeltemal kluisenaars nie en word tog soms deur vriende of
bekendes besoek.
Voor sy die voordeur kan bereik, het haar oupa dit reeds oopgemaak en kyk
hy fronsend na die drie mans wat daar staan. Heel eerste sien sy die gewere in
twee van die mans se hande en sy snak na haar asem. Rowers?

Word hulle aangeval? Oupa wou nooit luister toe hy gewaarsku is om


versigtiger op te tree nie. Iets waaraan sy ook skuldig is. Sonder enige
gedagte aan gevaar dwaal sy gereeld deur die wildernis en sal in goeder trou
met enige vreemdeling gesels. Dis ondenkbaar dat die misdade wat oraloor
gepleeg word, ook met haar kan gebeur.

“Ja?” verneem Andries Brink fronsend onvriendelik. Sonder om na haar te


kyk stoot hy Tanya beskermend agter hom in.

Dan tree ’n glimlaggende man vorentoe en Tanya sug verlig. Andries,


daarenteen, wyk nie ’n tree nie en bly steeds stug. “Wat is die bedoeling
hiervan, Riek?”

“Ek is jammer dat julle geskrik het, oom Andries, Tanya,” vra die
aantreklike, bruingebrande man om verskoning. Hy ken Andries goed genoeg
om te weet dat die ou man omgekrap is. Sy stewel se veter was los en hy het
gehurk om dit vas te maak, daarom was sy gesig nie dadelik sigbaar toe die
deur oopgemaak is nie. “Oom, dis kaptein Kotzé en konstabel Janzen. Daar is

’n dringende saak wat hulle met oom wil bespreek.”

“Dag,” grom Andries terwyl hy die twee mans se hande skud. “Wat maak
julle met wapens op my grond? Hier word nie gejag nie.”

“Dis nie vir jag nie, meneer Brink,” stel die kaptein hom gerus. “Kan ons
binnekom sodat ons kan gesels?”

Andries is onwillig om opsy te staan. “Julle bring nie wapens in my huis in


nie.”

“Dis nie jaggewere nie, oom,” verduidelik die konstabel oorgretig om die ou
man gerus te stel. Tanya kyk na Riek, wat vir haar knipoog. Die arme man
besef nie eens wat hy verkeerd gesê het nie. Asof Andries Brink nie weet hoe
’n jaggeweer lyk nie. “Ons kan nie die gewere buite los nie, oom, dit kan
gesteel word.”

“Dan kan jy buite bly en dit oppas.”

Kaptein Kotzé is ’n beter mensekenner as die jonger man en hy som die


situasie vinnig op. “Gaan wag jy in die voertuig,” beveel hy. Dit lyk asof die
konstabel wil teëpraat en hy gluur hom kwaai aan. Konstabel Janzen lyk
taamlik bekaf terwyl hy die gewere vat en daarmee na Riek se viertrek stap
wat eenkant geparkeer staan.

“Sal ek gaan koffie maak?” bied Tanya aan sodat haar oupa kan afkoel.

Riek het sy arm besitlik om haar middel gesit en haar gesoen. Sy wikkel haar
uit sy omhelsing los. Sy voorbarigheid krap haar oupa net verder om. Riek is
as vriend welkom in hulle huis, maar of haar oupa ’n verhouding tussen hulle
sal goedkeur, weet sy nie.

“Dis nie nodig nie,” keer haar oupa. “Al wat ek wil hoor, is waarom julle dit
nodig ag om my met vuurwapens in die hand te nader.”

“Oom Andries, die kaptein is op die spoor van ’n gevaarlike misdadiger,”

vertel Riek op die man af. “Hy skuil iewers op oom se grond en julle moet op
julle hoede wees. Hy is uiters gevaarlik en sal nie skroom om te skiet indien
hy vasgekeer word nie.”

TWEE

Andries se blou oë dwaal van Riek se gesig na die kaptein, wat ewe ernstig
lyk. Hy maak keelskoon. “Ounooi, ek dink jy moet tog vir ons koffie gaan
maak. Dalk moet jy ook maar daardie vrypostige mannetjie gaan roep om
saam te kom drink, Riek. Sê hy moet die gewere saambring as dit nie anders
kan nie.”
Dit oortuig Tanya dat haar oupa die saak in ’n ernstige lig beskou. Dis dus
nie ’n verdwaalde avonturier na wie die soekgeselskap en die insittendes van
die helikopter op die uitkyk was nie. Sy ril. Die honde het die mans gelei na
waar sy in die oop kol gestaan het. Dus het die skurk van daardie einste
voetpad gebruik gemaak. Hoe maklik kon hulle nie toevallig op dieselfde
tydstip daar aangeland het nie. Sy kon dalk in lewensgevaar verkeer het en sy
het nie eens daarvan geweet nie!

Met die skinkbord koffie keer sy haastig terug sitkamer toe. Sy is nuuskierig
om te hoor wat hulle bespreek. Kaptein Kotzé is juis aan die woord.

“Die vermeende moordenaar is verhoorafwagtend en het ontsnap terwyl hy


en ’n paar ander misdadigers in die selle onder die hof aangehou is. Daarna
het hy volgens ooggetuies ’n motor gesteel en weggejaag. Die motor is nie
ver hiervandaan nie gevind waar dit blykbaar sonder brandstof gaan staan
het. Ons vermoed hy hou hom iewers in die omtrek skuil.”

“Dankie, Ounooi,” bedank haar oupa haar afgetrokke vir die beker koffie wat
sy na hom uithou. “Hoe het die man ontsnap? Was hy dan nie geboei nie? Ek
het gedink gevaarlike misdadiger se hande en voete word met kettings
vasgeboei.”

“Dit was die geval en dit blyk dat hy en die ander hulp gekry het, meneer
Brink, maar die ontsnapping self is nie nou van belang nie. Hendrik Human is

’n gevaarlike misdadiger en ek moet julle dit op die hart druk dat julle uiters
versigtig moet wees. Indien julle hom gewaar, moet julle dadelik die polisie
se noodnommer skakel, en moet onder geen omstandighede die man nader of
konfronteer nie. Hier is ’n kaartjie met my selnommer op en moenie skroom

om my enige tyd van die dag of nag te bel indien nodig nie.”

Andries vat die kaartjie en kyk sonder veel erg daarna. “Hoekom sal die man
ons kom lastig val terwyl hy weet almal is op die uitkyk vir hom?” wil hy
weet.

Die kaptein kyk van Andries na Tanya en dan hulpsoekend na Riek voor hy
verduidelik. “Die voortvlugtige sal sekerlik nie openlik optree nie en dit
maak hom juis gevaarliker. Waarskynlik sal hy probeer om kos en allerlei
ander lewensnoodsaaklikhede te steel. Het julle wapens? Dis waarna hy heel
eerste sal soek.”

Andries se woeste frons laat hom besef dat hy van beter behoort te weet.

Andries Brink het dit duidelik gemaak dat hy nie wapens in sy huis toelaat
nie. Die mite dat hy eers skiet en dan vrae vra, is waarskynlik net wat dit is –

’n mite. “Terloops, julle het nie dalk reeds in die loop van die oggend ’n
vreemdeling opgemerk nie?”

“Behalwe mense met honde en ’n helikopter?” skerts Tanya voor sy haar kop
ontkennend skud. “Kaptein, ons weet nie eens hoe die voortvlugtige lyk nie.
As ons hom nie mag konfronteer nie, hoe sal ons weet wie hy is? Ons kan jou
tog nie elke keer bel wanneer ons ’n vreemdeling opmerk nie. Met Riek …
meneer Lotter se vakansiekamp wat binne loopafstand van ons is, dwaal hier
gereeld onbekendes in ons omgewing rond.”

“Sy foto was al op televisie,” antwoord die konstabel, wat nog nie geleer het
wanneer om stil te bly nie. Hy kyk rond en toe hy geen televisiestel sien nie,
tref dit hom dat hy buite ook geen skottel of antenna opgemerk het nie.

Hy vervolg aarselend: “Julle hét ’n televisie, nie waar nie?”

“Nee, ons het nie,” grom Andries so kwaai dat die jonger man onwillekeurig
terugdeins. Dis net Tanya en Riek wat haar oupa goed genoeg ken om die
onnutsige vonkel in sy blou oë op te merk toe hy die verskrikte konstabel
toesnou: “Ons het die onheilige gedoente nie in ons lewe nodig nie.”

“Maar hoe …” begin konstabel Janzen stamel voor hy die res van sy woorde
wyslik terugsluk.

Tanya kry hom jammer. “Ons het ’n radio, konstabel. Boonop koop my oupa
die Sondagkoerant gereeld ná kerk en ons het albei rekenaars met toegang tot
die internet indien ons in kontak met die buitewêreld wil kom. So jy moenie
dink ons is heeltemal afgesny van die beskawing nie.” Of ongeletterd nie,
voeg sy in haar gedagtes by.
“Ek het nie so gedink nie,” jok die konstabel, hoewel sy rooi gesig hom
verraai. “Dis net vreemd om nie ’n televisie te hê nie.”

“’n Foto sal ons help om die man te identifiseer, kaptein,” stel Andries voor.
“Terloops, wat laat jou dink die boosdoener is steeds in die omtrek? Hy klink
vir my na ’n geslepe vent.”

“Die motor wat sonder brandstof in die omgewing aangetref is.”

“A,” knik Andries instemmend, maar vervolg dan peinsend: “Dit bewys
eintlik nie veel nie. Hy kon duimgegooi het in enige rigting in die hoop dat
julle hom juis hier sal soek.”

“Ja, dis ’n moontlikheid waaraan ons mettertyd sal aandag gee. Intussen volg
ons maar al die leidrade op soos wat ons dit kry. Ek het nie ’n foto byderhand
nie, maar ek sal kyk wat ek kan doen. Buitendien verskyn sy gesig in al die
koerante. Die pers is omtrent op ons omdat Human ontsnap het.

Meneer Brink, juffrou, julle moet asseblief op julle hoede wees. Die man is
gewetenloos en koelbloedig. Moet ek iemand kry om julle op te pas?”

Sy blik dwaal na die konstabel wat verbleek van skrik. Die arme man is
sweerlik banger vir Andries Brink met sy kwaai uiterlike as vir enige
misdadiger. Andries en Tanya skud gelyktydig hulle koppe en konstabel
Janzen sug hardop van verligting.

Daarna groet hulle en stap uit na die viertrek. Riek trek Tanya besitlik nader
en soen haar weer eens op die mond. Hy ignoreer haar oupa se openlike
ontevredenheid en volg die twee polisiemanne.

“Ek hou niks hiervan nie,” brom Andries onvergenoeg.

Met die leë koffiebekers op die skinkbord stap Tanya voor hom uit kombuis
toe. Sy stem saam met hom. Met ’n misdadiger in die omtrek sal sy nie soos
gewoonlik kan kom en gaan nie. Dit beteken boonop dat joernaliste en ander
nuuskieriges op die wildernis gaan toesak.

“Ek is sommer vies, Oupa,” beaam sy. “Ons privaatheid is daarmee heen.
Hordes gaan hierheen stroom op soek na sensasie.”

“Ek praat nie daarvan nie, Ounooi. Ek praat van die ding dat Riek Lotter jou
goedsmoeds in my teenwoordigheid soen. Watse voorbarigheid is dit met
hom? Het hy geen respek nie?”

“Oupa!” Sy lag hom uit. “Hoekom mag Riek my nie soen nie?”

“Is daar ’n ding tussen julle aan die broei waarvan ek nie kennis dra nie?”

“Nie rêrig nie, Oupa, maar hy soen nogal lekker.”

Laggend stap sy terug na haar kamer toe. Haar oupa is reg, gee sy teësinnig

toe. Dis nogal voorbarig van Riek om haar te soen asof daar ’n verhouding
tussen hulle is. Hoekom? vra sy haarself af. Sy ken Riek al ’n jaar of langer
en hy is ongelooflik goed gebou en baie aantreklik met sy blonde hare en
grysgroen oë. Daarby beskik hy oor ’n humorsin en die soort sjarme wat hom
by oud en jonk gewild maak. Baie meisies sal hulle ou skoene agternagooi
indien hy in hulle sou belang stel. Waarom dan nie sy ook nie? Moontlik
omdat sy van hom as vriend hou en nie aan hom in terme van ’n
toekomsmaat dink nie, besluit sy. Dalk moet sy haar oë oopmaak en haar
houding teenoor hom verander voor sy te laat wakker skrik en ’n ander
meisie hom voor haar neus weggeraap het.

Later die middag pak die donderwolke dreigend saam en sy moet toegee dat
haar oupa weer eens reg was. Sy stap buitetoe om die krag van die natuur te
aanskou. Wat sy voorsien het as mis of ’n ligte reënbui, word rollende,
vaalgrys wolke wat opsigtelik laag oor die swaaiende boomtoppe op mekaar
afstorm en donderend bots. Met ontsag staar sy na massiewe massas wat
mekaar soos oerdiere die stryd aansê. Weerligstrale kronkel soos sweepslae
teen die swartblou agtergrond.

Die wind waai deur haar hare, pluk aan haar klere en probeer haar soos ’n
jong boompie ontwortel en wegswiep. In haar verbeelding word sy deel van
die geveg en sien sy die ruiters op die vurige perde en hoor sy hulle
strydkrete. Haar hartklop versnel en haar bloed bruis deur haar are.
“Ounooi!” Andries kom aangehardloop, gryp haar arm en pluk haar net
betyds weg. ’n Reuseboom word middeldeur geslaan deur ’n verblindende
bliksemstraal en die dik tak wat losskeur en krakend na benede tuimel, sou
haar ongetwyfeld getref het.

“Magtig, Ounooi, wat maak jy buite? Ek het jou al hoeveel keer gesê jy moet
binne bly as die weer so swaar is, maar jy luister nie!” Hy baklei met haar
terwyl hy haar agter hom aantrek die veiligheid van die huis binne.

Sy hoor hom praat, maar dit registreer nie dadelik wat hy by haar probeer
tuisbring nie. Die stuwing van adrenalien en die bewing van opwinding
bedaar geleidelik. Meteens dring dit tot haar deur dat haar oupa net betyds
was om haar van ernstige beserings te red. Sy bewe opnuut, maar dié keer is
dit van skok.

Andries het dit verwag en gooi ’n saggebreide skaapvel wat oor ’n


riempiesstoel se rugleuning gehang het om haar skouers. Met sy arm wat haar
vertroostend teen hom vasdruk, lei hy haar tot in die deurmekaar kombuis,

skakel die ketel aan en haal skoon koffiebekers uit die kas om vir hulle vars
koffie te maak. Die vuil skottelgoed in die wasbak hinder hom nie. As dit te
veel word om uit te stel tot Sofia Maandag opdaag, sal hy en Tanya wel
daarby uitkom. Veral omdat die gure weer hulle binnenshuis sal hou.

“Ek is jammer, Oupa,” klappertand sy met die warm koffiebeker tussen haar
hande. “Die wolke en die blitse het my aan ’n veldslag in die Middeleeue laat
dink en ek het nie besef dit kan vir ons swak ou mensies gevaar inhou nie.”

“’n Mens neem nie weerlig ligtelik op nie,” berispe Andries haar minder
kwaai. “Dis een van die natuurkragte wat met respek bejeën moet word.” Sy
stem versag sodat sy hom byna nie kan hoor nie. “Ek wil jou nie ook verloor
nie, Ounooi. Jy is al wat ek het wat die lewe die moeite werd maak.”

Sy sit die koffiebeker op die tafel neer, laat die sagte skaapvel met die
opstaanslag van haar skouers afgly en stap om die tafel na hom toe. Agter
hom buk sy, sit haar arms om sy skouers en rus met haar wang teen syne.

“Dankie, Oupsie,” fluister sy bewoë. “Ek sal dit voortaan altyd in ag neem
voor ek impulsief optree en dinge doen wat my lewe kan bedreig. Ek is ook
baie lief vir Oupa.”

Die storm hou deur die nag aan en eers teen dagbreek begin dit ietwat in
geweld afneem. Dit reën steeds onophoudelik, maar die wind word met rukke
stil en die geveg tussen die malende wolke is uitgewoed.

Tanya klim tussen die warm lakens uit, glip haar japon oor haar skouers en
stap kaalvoet deur die skemer huis. In die wilde nag moes vallende bome of
takke die kragdrade beskadig het, want daar is nie elektrisiteit nie. In die
kombuis het haar oupa haar voorgespring en reeds ’n ketel water op die
gasstofie gesit om vir koffie te kook. Hy staan voor die venster en staar deur
die reënsluiers na die donker bome met die druipende blare. Sy gaan staan
langs hom om na die chaos buite te kyk. Hy vou sy arm om haar skraal lyf en
trek haar liefdevol teen hom aan. Dit laat haar eerder voel as hoor dat hy
bedruk sug.

“Ai, Oupa, wie het nou gisteroggend so ’n drastiese weerverandering


verwag? Oupa was reg toe Oupa donderweer voorspel het. Ek het nie veel
meer as ’n swaar reënbui verwag nie.”

“Ek sou eerder wou verkeerd wees,” sug hy nog eens.

“Hoeveel skade verwag Oupa?”

Die ketel begin kook en sy sit koffiebekers reg. Terwyl sy by die kas is, haal
sy beskuit uit die blik. Dis byna leeg, sien sy en maak ’n nota in haar
gedagtes om ná die erediens by die padstal aan te gaan en ’n pak of twee
tuisgebakte beskuit te koop.

“Sal ons kan kerk toe gaan, Oupa?”

Hy skud sy kop sonder om oor sy skouer te kyk. “Ai, dis jammer. Baie
jammer,” mymer hy.

Tanya begryp waarna hy verwys. “Ag, Oupa, die natuur sal vinnig herstel.

Voëls en diere aanvaar wat met hulle gebeur en herstel vinniger as die mens,
wat alle persoonlike verlies in terme van geld en gerief bereken.”

“Ja, maar die broeipare se neste kan beskadig wees en vir die skaars soorte
kan dit ’n jaar of langer neem voor hulle weer broei. Veral vir die groter
trekvoëls. Ek wil netnou uitstap en gaan kyk wat ek kan red.”

“Liewer nie, Oupa. Oupa sal tog niks kan uitrig nie.” Hy antwoord nie, eet
net afgetrokke van die beskuit. “Dan gaan ek saam met Oupa,” besluit sy.

“Kom ons wag ’n uur of so en kyk of die reën wil opklaar. Reg so, Oupa?”

Sy afgetrokke kopknik stel haar nie gerus nie. Sy sal hom moet oppas. Hy is
kapabel en stap sonder sy reënjas en oorskoene uit. Dat die ramp juis nou
moes gebeur. Die afgelope paar dae word hy gepla deur ’n lastige hoesie,
maar wil nie daarvan hoor om dokter toe te gaan nie. Hy maak dit af as ’n
onwelkome laatsomerverkoue. Terug in haar kamer kry sy ’n ingewing. Sy
gaan Riek bel en hom vra om oor te kom. Dalk sal hy haar oupa kan oorreed
om verstandig te wees.

Eers probeer sy hom per landlyn in die hande kry, maar besef dat die
telefoonlyn ook in die slag gebly het. Daarna bel sy hom op haar selfoon,
maar sien dat daar geen sein is nie en dat die battery buitendien afgeloop is.

Genadetjie, hulle is letterlik afgesny van die buitewêreld. Al wat haar te doen
staan, is om by haar oorspronklike besluit te hou en haar oupa op te pas en
binne te hou, selfs al moet sy hom in sy studeerkamer toesluit.

Gelukkig is dit nie nodig om tot drastiese stappe oor te gaan nie. Sy hoor

’n dreuning buite en is verlig toe sy Riek se sterk dubbelkajuitbakkie sien


stilhou. Dit reën steeds en met sy reënjas se kappie oor sy kop getrek,
drafstap hy gebukkend nader. Hy verdwyn buite sig agterdeur toe en sy stap
hom haastig tegemoet. Haar oupa het hom ook sien stilhou en is eerste by om
vir hom die kombuisdeur oop te hou.

“Van waar, Gehasi?” verneem Andries nadat die jong man sy reënjas
uitgetrek het en op die breë agterstoep oor ’n stoel gegooi het.
Riek vee sy voete aan die klapperhaarmat af en skud die reëndruppels uit sy
hare voor hy sy hand uitsteek om te groet. “Ek het sommer kom kyk hoe
dinge hier lyk, oom.” Hy mik om Tanya te soen, maar sy maak asof sy dit nie
opgemerk het nie en tree betyds weg.

“Ons krag is af en die telefoon werk ook nie,” vertel sy gou om die ongemak
van die oomblik te oorbrug. “En daar by jou?”

“Dieselfde. Ek het juis gery om te kyk of ek kan sien wat die skade is en of
dit gou herstel sal kan word, maar ek vrees ons sal die res van die dag op
kerskrag en die burgerbandradio moet staatmaak.” Hy praat met Andries,
maar sy blik bly vraend op Tanya gerig. Hy is bewus van haar doelbewuste
wegdeins toe hy haar wou soen en begryp dit nie. Hy dag hulle ken mekaar
lank genoeg om hulle verhouding na die volgende fase te voer. “Hoe lyk dit?

Is dit moontlik dat ek ’n beker koffie kan bedel?”

“Natuurlik, die gasstofie staan gereed. Ounooi, ek sal ook nog drink, dankie.
Hoe lyk die bome?”

“Daar’s baie skade, oom. Jong bome het omgeval en takke is afgeruk. Dit lê
die pad vol. ’n Gewone motor sal nie kan deurkom nie. Ek is bly die meeste
kampeerders is gister op versoek van die polisie weg. Ten koste van my sak,
natuurlik,” voeg hy met ’n skewe glimlag by. “Eintlik is ek bly, want die
storm en reën sal die kampeerdery bra onplesierig maak met dié dat ons nie
kan uitgaan nie. Stedelinge word gou rusteloos indien hulle nie besig gehou
word nie.”

“Jy het nie dalk gesien hoe lyk dit by die werkers se huise nie?” verneem
Tanya angstig. Sy is onrustig oor mamma Sofia Ortlap en haar seun, Ammie,
wat in ’n bouvallige baksteenhuisie bly. Haar oupa het al aangebied om vir
haar ’n stewige nuwe blyplek nader aan hulle en aan die duskant van die
rivier te bou, maar die altyd laggende mamma Sofia met haar goedige ronde
gesig wou niks daarvan weet nie. Dit sal te ver van haar familie en vriende af
wees, het sy die aanbod van die hand gewys.

“Alles lyk oukei by hulle,” stel hy haar gerus.


Die water kook en sy maak die koffie. Riek vat die beker wat Tanya na hom
uithou en moedswillig druk hy haar vingers vas sodat sy nie haar hand
dadelik kan terugtrek nie. Haar wange word rooi en haar blou oë blits
gevaarlik sodat hy dadelik met sy speletjie ophou. Hy vermoed sy weet nie

hoe om die vonk tussen hulle te hanteer nie.

“Ek moet uitgaan om te gaan kyk wat met die broeipare gebeur het, maar
Tanya wil my nie toelaat nie,” lug Andries sy beswaarde gemoed. Hy frons
kwaai in Tanya se rigting. “Ek het nooit gedink die dag sal kom dat ek my
deur ’n snuiter sal laat voorsê nie.”

“Dis vir Oupa se beswil,” probeer sy hom kalmeer. “Wat kan Oupa
buitendien doen? Niks wat nie ’n dag of twee kan oorstaan nie.”

Riek knik instemmend. Hy sit die koffiebeker neer, sy blik baie ernstig terwyl
hy van die een na die ander kyk. “Dis in elk geval nie op die oomblik veilig
om buite rond te loop nie. Die booswig is steeds op vrye voet en in die
omgewing.”

“Bog,” grom Andries onoortuig dat hulle veiligheid bedreig word. “Die
ellendeling is seker al landuit vir al wat ons weet. Dat die honde nog nie sy
spoor gekry het nie, is mos bewys dat hy nie langer hier in die wildernis
ronddwaal nie. Is die kaptein en konstabeltjie toe vort?”

Ingedagte trommel Riek met sy vingers op die tafelblad. Hy moet hulle alles
vertel wat hy weet, maar hy wil nie te blatant wees en Tanya skok nie.

Eindelik besluit hy om met die waarheid uit te kom.

“Kaptein Kotzé is weg, maar konstabel Janzen het in die kamp agtergebly om
’n ogie te hou ingeval die voortvlugtige Human-vent sy opwagting sou
maak.”

“Dus is die verpiepte ventjie steeds daar by jou,” grinnik Andries by die
gedagte aan hoe bang die jong konstabel vir hom is.

“Ja … ek bedoel nee.” Riek swyg. Dis vir hom moeilik om oor die
onaangenaamheid te praat. Tanya kyk onrustig na hom en hy sien die
voorkennis van slegte nuus wat haar helder blik vertroebel. Die pragtige
meisiekind ken hom so goed dat sy vermoed hy is nie openhartig met hulle
nie. Hy maak keelskoon en vervolg heserig: “Hy moes deur die nag iets of
iemand gewaar het en toe hy uitgestap het om ondersoek in te stel, is hy
oorval.”

“Het hy seergekry?” Tanya bal haar vuiste en sweet slaan teen haar slape uit.
Sy kyk na die grimmige lyne op Riek se aantreklike gesig en toe na haar
oupa, wat aandagtig na Riek luister.

“Ek het op sy liggaam afgekom waar hy agter ’n paar bosse ingesleep is.”

Riek hoes agter sy vuis. Dis nie maklik om die draer van slegte nuus te wees
nie. “Hy was dood – sy keel is afgesny. Ek het julle juis kom waarsku. Wees

asseblief op julle hoede. Die ontsnapte misdadiger het geen respek vir sy
medemens se lewe nie.”

DRIE

’n Neerdrukkende stilte volg op Riek se nuus dat konstabel Janzen vermoor


is. Hulle vra hom nie uit nie en ná ’n minuut of twee se ongemak vertel hy
dat die polisie daar was, maar geen spore kon vind nie, heel verstaanbaar ná
die nag se stortreën. Daarna is hy onder kruisverhoor geneem, maar hy kon
hulle geen inligting gee nie aangesien hy in die huis slaap wat ’n paar
honderd tree van die hutte en kampgeriewe agter ’n klipmuur, oorgroei met
rankplante, geleë is. Die konstabel wou opsluit in een van die hutte oornag,
hoewel hy hom slaapplek in die huis aangebied het.

“Dis altyd die hulpeloses wat deur misdadigers geteiken word,” sug Andries
beswaard. Skuldig onthou hy hoe hy dit die vorige dag amusant gevind het
om die jong man te intimideer. Ingedagte soek hy na sy pyp voor dit hom
byval dat hy op die dokter se aandrang daarvan afgesien het.
“Dêmmit!” swets hy sag sodat die twee jongmense hom nie kan hoor nie.

“Die konstabel was ’n opgeleide polisieman en hy moes versigtiger opgetree


het,” maak Riek halfhartig beswaar omdat hy opmerk hoe diep die jong
konstabel se dood die ou man getref het. “Ek dink hy is deur die lafhartige
hond bekruip en met ’n swaar voorwerp katswink geslaan voor hy
koelbloedig doodgemaak is. Daar is ’n wond aan sy agterkop en die kaptein
stem saam met my teorie. Ná die lykskouing sal ons met sekerheid weet of dit
wel die geval was.”

Met trane in haar oë en ’n knop in haar keel sukkel Tanya om te praat.

“Asseblief, Riek, moenie. Ons het nie al die detail nodig nie.” Sy kyk na haar
oupa se strak gesig. Dink hy nou ook aan haar ouers wat jare gelede tydens ’n
rooftog doodgeskiet is? Dis waarom hy nie vuurwapens kan verdra nie, selfs
al het hy ’n geweer in die kluis toegesluit. Tog sal hy dit moet gebruik indien
hulle lewe bedreig word.

Riek knik begrypend. Hy weet waarom sy as kind by haar oupa kom bly het.
Haar pa was Andries Brink se enigste kind. Hy staan op. “Ekskuus dat ek
julle kom ontstel het, maar dit oortuig julle seker nou om werklik nie
onverskillig te wees nie. ’n Mens weet nie waar die ellendeling volgende kan

toeslaan nie. Dan ry ek maar.” Hy trek Tanya onverhoeds in die kring van sy
arms in en druk haar kop teen sy skouer vas. “Pas jou mooi op, meisiekind.”

’n Kort oomblik ontspan sy in die knus omhelsing van sy arms en die veilige
koestering teen sy bors, dan wikkel sy haar los. “Waarom so haastig?

Aangesien dit reën, wil ek pannekoek bak en tussen my en Oupa sal meer as
die helfte oorbly en taai word sodat selfs Kollie agterna langtand daaraan sal
eet.”

Vraend kyk hy na Andries, maar die ou man staan afgetrokke voor die
venster. Eers huiwer hy, maar willig dan in. Die atmosfeer is wel
neerdrukkend, maar in sy stil huis sal dit veel erger wees. Dalk kry hy en
Tanya dit reg om haar oupa op te beur.
Tanya staar deur die toegewasemde ruit van die skuifdeur. Sy is in haar
ateljee besig met voorlopige sketse vir haar half voltooide boek oor dwergie
Dennebol en sy regterhandkabouter, Koringkriek. Ná ’n rukkie vryf sy met
haar vinger oor die potloodstrepe om die skerpheid te versag. Haar hart en
aandag is egter nie by haar handewerk nie en ontevrede frommel sy die blaaie
op en slinger dit in die snippermandjie.

Onverwags word haar aandag getrek deur Kollie wat sy kop oplig en sy ore
spits. Hoewel hy by haar voete lê en slaap en soms kliphard snork, bly hy
paraat en niks ontgaan sy aandag nie. Onrustig kyk sy na die venster. Al is dit
toegewasem, kan sy nogtans die figuur van iemand uitmaak wat vassteek en
deur die venster kyk voor hy verder loop. Dadelik begin haar hart onrustig
klop en haar knieë word lam van skrik. Waarom sou iemand in die reën om
hulle huis sluip?

Sê nou dis die moordenaar?

Sy snak na haar asem. Riek het hulle tot versigtigheid gemaan, maar hulle het
dit steeds nie ernstig opgeneem nie. Is die agterdeur ooit gesluit? Wie is
laaste uit die kombuis? Sy of haar oupa? Sy kan nie onthou of sy die deur
gesluit het as dit sy was nie. Wat as haar oupa uitgestap het sonder dat sy dit
opgemerk het? Sou hy die deur gesluit het?

Sy wip soos sy skrik toe ’n harde geklop aan die agterdeur opklink. Kollie
vlieg op en draf met kort blaffies en ’n swaaiende stert voor haar uit. Dit stel
haar ietwat gerus. Kollie sal nie iemand by die agterdeur laat inkom wat hy
nie ken nie. Die agterdeur is soos ’n staldeur en sy skuif die onderste slot in

voor sy die bodeur op ’n skrefie oopmaak. Kollie staan met sy voorpote teen
die onderdeur terwyl hy opgewonde blaf. Sy stoot hom weg en loer deur die
skrefie.

“Jislaaik, Ammie, jy het my laat skrik!” roep sy bestraffend uit toe sy


mamma Sofia Ortlap se seun herken. Hy het ’n plastieksak oor sy kop en
skouers gebind om die reën af te keer, maar sy opgerolde broekspype is
sopnat en sy voete vol modder. “Wat is fout, jong?”

“Julle … julle moet kom,” roep hy angstig uit. Omdat hy opgewonde is,
hakkel hy selfs meer as gewoonlik. “Kom … kom gou!”

Andries sluit by hulle aan en maak die deur heeltemal oop. “Wat makeer,
Ammie? Is dit jou ma?”

Reëndruppels spat in alle rigtings toe hy sy kop heftig skud. “Kom gou, oom
Voëlman. Daar’s ’n mens … ’n man. Hy … lê daar. Die rivier … die water
kom. Die man … hy is net amper dood. Julle moet kom … gou … voor die
water hom vat!”

“Watter man, Ammie?” vra Andries rustig om die jong seun gerus te stel.

“Ken ons hom?”

Weer spat die druppels terwyl Ammie sy kop skud. “Kom gou!”

“Waar is die man?”

“By die holkrans, oom Voëlman. Langs die rivier. Maak gou! Die water kom.
Die man is amper dood en sal versuip.”

“Dit klink asof die man dalk by die krans afgeval het, Oupa,” som Tanya die
gebrabbel op.

“Waarskynlik, en blykbaar is die rivier aan die afkom. Ammie, jy sal ons
moet gaan wys waar die man is. Ounooi, trek jy solank die Jeep uit. Ek kry
gou my flits en ’n kombers. Dit sal vroeg donker word.”

“Moet ek nie vir Riek bel nie, Oupa?”

“Die telefoon is dood, onthou. Ons moet dadelik by die man kom voor die
water hom bereik. Agterna kan jy na Riek toe ry. Laat ons net eers die man in
veiligheid kry.”

Deur die eeue heen het die rivier die rant in twee gesny en uitgekalf tot ’n
diep ravyn. Gewoonlik is die rivier net ’n kabbelende stroompie en die breë,
grasbegroeide oewers bied ’n ideale piekniekplek. Aan die aan kant van die
ravyn toring die krans redelik hoog bo die rivier uit met ’n holte op grondvlak
wat ’n skuiling teen die wind bied en dus ideaal is vir vuurmaak om vleis te
braai.

Ongelukkig het die piekniekgangers van die pragtige ontspanningsplek begin


misbruik maak met die strooi van rommel, die verniel van die plantegroei en
die molestering van die dassies en wilde voëls wat in die krans nes gemaak
en gebly het, tot Andries geweier het om enigiemand meer daar toe te laat.
Riek het gesorg dat die kampeerders weet dis privaat eiendom wat nie betree
mag word nie. Algaande het die stroom piekniekgangers afgeneem en dit het
herstel tot die oorspronklike lushof wat dit eens was.

Tanya en haar oupa ontspan gereeld in die sereen stilte terwyl Andries die
kom en gaan van die arende met sy verkyker monitor. Vir albei is dit ’n hawe
van beskutting en vrede. Dus is daar ’n begaanbare tweespoorpad waarmee
hulle rondom en half bo-oor die rant kronkel en eindelik langs die rivier hulle
eie klein Eden bereik. In die reën is die pad gevaarlik glad en bedrieglik naby
aan die afgrond. Tanya ken egter elke donga en kinkel in die pad en selfs
deur die reënsluiers kan sy haar weg vind.

Eindelik hou hulle op die oewer langs die rivier stil. Ammie spring rats uit en
bereik die nat bondel vodde voor hulle. Sy kan nie glo dat dit ’n mens is nie
tot sy die man bereik en hom met haar oupa se hulp versigtig omrol en na die
bebloede gesig kyk. Sy gelaatstrekke word versteek agter hare, bloed en
modder. Tanya lig sy kop effens op en die fladdering van sy ooglede laat haar
verlig sug. Sy oë spleet baie effens oop en dit lyk asof hy na haar kyk en iets
wil sê, maar nie die krag het nie.

“Oupa, ons moet hom by die hospitaal kry. Ons weet nie hoe erg hy beseer is
nie en ons het nie eens ’n draagbaar nie. Kan ons dit waag om hom op te tel?”

“Ons het nie ’n keuse nie. Ammie, kom help.” Andries kyk vererg op omdat
die seun regop gekom het en skewekop luister. “Wat is dit, Ammie?”

verneem hy omdat die jong seun gespanne gereed staan om soos ’n ribbok
weg te vlug.

“Water kom! Water kom!”

Nou hoor hulle ook die gedonder van die watermassa wat op hulle afstorm,
’n wal modderwater wat met vernietigende krag alles in sy pad meesleur.

“Ounooi, gou! Ammie, help!”

Die bewustelose man is swaar en hulle sukkel om hom opgetel te kry.

Eindelik kry hulle hom op die agtersitplek ingebondel en klap die deure toe.

Die geluid van die water word in die ravyn vasgekeer en is oorverdowend.

Tanya klim agter die stuurwiel in en draai die sleutel selfs voor sy die deur

toetrek. Andries skuif langs haar in.

“Waar’s Ammie!” roep sy bo die dreuning uit.

Hulle kyk rond en gewaar hom waar hy die rivier probeer oorsteek voor die
water hom bereik. “Ammie!” roep hulle na hom, maar hy kyk nie eens om
nie, hardloop net om die oorkantste oewer betyds te bereik. Gaan hy dit
betyds haal? Die water gaan hom inhaal voor hy die veiligheid van hoër
grond bereik.

“Magtig, Ounooi, ry!”

Haar oupa se dringende stem skok deur haar. Die water is byna op hulle.

Met die stilhouslag het sy die Jeep se neus nie teruggedraai nie en omdat die
oewer smal is, moet sy ’n driepuntdraai uitvoer. Sy trap die petrol te diep in
en die wiele maal in die modder. Die vloedwater is op hulle, sy gaan nie
betyds wees nie.

Andries sit sy hand kalmerend op sy kleindogter se knie. “Toe nou, Ounooi,


ons moet by die huis kom.”

Met die water wat soos ’n brullende ondier enkele treë agter hulle aanjaag en
na hulle hap, wissel sy ratte en laat die Jeep met die kronkelspore langs teen
die skuinste uitklim. Sy kners op haar tande en onderdruk die impuls om die
petrolpedaal te diep in te trap. Dit kan hulle dood beteken indien sy kop
verloor. Bo-op die hoogte hou sy stil sodat hulle met lam bene kan uitklim.
Hulle kyk na die skuimende watermassa wat deur die hele breedte van die
ravyn voortspoed op pad na die see. Takke en bome word rollend deur die
bruisende vloedwater rondgeslinger. Hulle soek na die maer gestalte van die
seun, maar sien hom nie.

Tanya druk haar betraande gesig teen haar oupa se skouer vas. “Hoekom het
hy dit gedoen, Oupa?” vra sy ontsteld met ’n klein stemmetjie soos toe sy as
kind geglo het hy weet alles.

“Hy wou seker huis toe gaan, Ounooi. Hulle bly mos aan die ander kant van
die rivier.”

“Maar ek sou hom huis toe gevat het,” baklei sy met haar oupa en met die
jong Ammie wat in sy vrees die instink van ’n dier gevolg het en in gevaar na
sy blyplek vlug. “Oupa, wat gaan ons vir mamma Sofia vertel?”

“Dit moet nou eers wag. Kom, ons moet die beseerde man by die huis kry.”
Hulle ry in stilte en hou naby die agterdeur stil. Andries keer haar toe sy wil
uitklim. “Dalk was Ammie betyds, Ounooi. Hy is ’n kind van hierdie wêreld
en ken die rivier en die wildernis. Ons sal wel later weet wat gebeur

het. Nou moet ons ’n manier bedink om die beseerde man in die huis te kry.”

Maklik is dit beslis nie om die byna lewelose liggaam uit die Jeep te tel en
deur die huis tot in die gastekamer naaste aan die kombuis te dra nie. Sy laat
haar oupa die man se bene om sy heupe haak terwyl sy met haar arms onder
sy armholtes deur die swaarder bolyf dra. Met sy nat rug en kop wat teen haar
rus, hoor sy hoe hy saggies kreun en sy wonder hoe erg sy beserings is. Dalk
doen hulle meer skade as goed om hom so lomp te sleepdra, maar buite kan
hulle hom nie los nie.

Hulle laat sak hom eers tot op die vloer sodat sy die beddegoed kan wegvou
terwyl Andries sy modderbesmeerde skoene en kouse uittrek. Hy het groot
voete met versorgde toonnaels. Beslis nie sommer ’n lieplapper of boemelaar
nie. Vir die eerste keer kyk Tanya nuuskierig na sy gesig, maar voor dit nie
behoorlik gewas is nie, kan sy nie veel van sy gelaatstrekke uitmaak nie. Sy
stoppelbaard is lank en sy donker hare is in nat, deurmekaar slierte teen sy
modder- en bloedbesmeerde gesig vasgeplak.
“Sal ons hom uittrek en was, Oupa?” vra sy huiwerig. Sy sien nie kans om
aan ’n vreemdeling se kaal lyf te vat nie. Haar oupa het haar streng opgevoed
en haar dit in haar onstuimige tienerjare gedurig op die hart gedruk dat die
mens se liggaam met respek behandel moet word. Dis asof sy hom steeds
hoor sê: “Kuisheid is nie ’n vloek nie, Ounooi, dis ’n kosbare gawe.”

“Nee, ek dink jy moet dadelik na Riek toe ry en van hom af die dokter en

’n ambulans ontbied. Ons is onbevoeg om hom te versorg en doen moontlik


in ons onkunde meer kwaad as goed.” Hy sien die onwilligheid om hom
alleen by die vreemdeling te los in die helderheid van haar blou oë en vervolg
oorredend: “Met die terugkom kan jy sommer by Sofia langs gaan en
verneem of Ammie veilig tuisgekom het.”

Haar oupa ken haar te goed, besef sy terwyl sy agter die Jeep se stuurwiel
inklim. Hy weet presies op watter knoppie om te druk om haar by sy opdragte
te laat inval. Ingedagte kyk sy in die truspieëltjie om haar hare reg te druk en
skrik vir haar eie spieëlbeeld. Sy lyk nie veel beter as die vreemdeling nie.

Haar gesig is vol modder en ten spyte van die reënjas, is haar hare nat toutjies
waaruit water drup.

Gedagtig aan die man wat in ’n beswyming lê, trek sy weg en ry na die brug
wat die wildernis met die buitewêreld verbind. Reeds van ver af hoor sy die
dreuning van die vloedwater en haar hart klop onstuimig. As Ammie hulle
nie betyds kom roep het nie, was die man nou een van die opdrifsels

wat deur die bruin modderwater voortgestu word. Dit laat haar onthou van
Sofia Ortlap se seun met die volwasse lyf en die verstand van ’n jong kind. Is
hy veilig? Of het hy sy lewe verloor deurdat hy hulle van die beseerde man
kom vertel het? Sal sy offer ongemerk verbygaan sonder dat iemand daarvan
weet?

Skielik is die rivier reg voor haar. Dit vloei so breed dat die pad deur die
water verswelg word voor sy die brug kan sien. Sy trap hard rem en staar
ongelowig na die siedende rivier. Het sy iewers verkeerd afgedraai? Waar is
die brug dan? Dis tog nie moontlik nie. Hierdie pad is hulle enigste
verbinding met die buitewêreld. Meteens skok die waarheid verlammend
deur haar – die brug is weg! Dis nie net oorstroom nie, dit bestaan nie meer
nie!

“Oupa, hoe is dit moontlik?” vra sy later onbegrypend. “Waar kom die massa
water skielik vandaan? Dit het dan gister eers begin reën. Water beweeg mos
nie so vinnig nie.”

“Ek het al self ook gewonder.” Andries hou ’n beker warm koffie na sy
bibberende kleindogter uit. “Ek vermoed die damwal in die kloof het
gebreek. Nou gaan trek jy dadelik droog aan. Ek gaan vuur in die donkie
maak vir warm water en dan kan jy bad.”

“Ek wil net eers gaan kyk hoe dit met die man gaan.”

Die warm koffie het haar innerlik versterk en sy stap voor haar oupa uit na
die kamer waar hulle die vreemdeling in die bed gesit en met komberse
toegegooi het. Hoewel die man steeds roerloos op sy rug lê, sien sy dat sy
arms na weerskante onder die komberse uitgesprei is. Sy lig die een kant van
die kombers op en staar oorbluf na die tou waarmee die man se hand aan die
raamwerk van die ysterkatel onder die matras vasgebind is.

“Oupa!” roep sy geskok uit. “Hoekom het Oupa dit gedoen?”

“Ter wille van ons veiligheid, Ounooi,” antwoord Andries kalm. “Ek
vermoed hy is die ontsnapte misdadiger waarna gesoek word.”

“Oupa, dis nogtans onmenslik,” maak sy beswaar.

“Hy durf nie enige genade by my verwag ná die wrede manier waarop hy die
jong konstabel Janzen se lewe geneem het nie.”

Met groot oë kyk sy na haar oupa. So het sy hom nog nooit gesien nie. So
kliphard onvergeeflik. Dan tref die volle implikasie van wat hy gesê het haar

en sy tree werktuiglik agteruit. Het hulle ’n koelbloedige moordenaar die


veilige beskutting van hulle huis ingebring? Is dit ter wille van hóm dat
Ammie verdrink … miskien verdrink het?
VIER

“Dink Oupa regtig so?” Haar stem is ’n skor fluistering. “Wat gaan ons
doen?” Haar verstand weier om helder te dink. Hierdie man is ’n
koelbloedige moordenaar en hulle bied hom ’n veilige hawe teen die storm.

“Ons moet dadelik die polisie laat weet! Oupa, ek wil nie saam met hom
onder dieselfde dak wees nie! Hy het bloed aan sy hande en as hy bykom, is
óns sy volgende slagoffers! Ons moes hom daar gelos het. Oupa, wat nou?”

Andries skud sy kop vertwyfeld. Hy moes die nuus op ’n ander manier aan
haar oorgedra het. Nou is sy byna histeries en hy weet nie hoe om haar gerus
te stel nie.

Besluiteloos stoot hy sy hand deur sy hare. Terwyl sy weg was, het hy die
man se klere van hom afgestroop en die sakke deursoek vir iets om hom mee
te identifiseer, iets wat sal bewys dat hy nie die ontsnapte misdadiger is nie.

Daar was egter niks inkriminerends in sy sakke nie. Nie eens ’n betaalstrokie
of kleingeld nie. Van een ding is hy nietemin seker – al is die man die
voortvlugtige, kon hulle hom nie in sy huidige toestand aan sy eie lot
oorgelaat het nie. Dit sou so goed gewees het hulle het eiehandig sy lewe
geneem. Asof hulle hulself die reg toegeëien het om regter en laksman te
speel. Wat nou? wou Tanya by hom weet, maar daarop het hy nie ’n
antwoord nie. Hy weet wragtig nie.

“Dis moontlik dat ek verkeerd is,” probeer hy haar kalmeer. “Dis in elk geval
ons Christelike plig om hom te versorg tot hulp opdaag. Ek kon nie vasstel of
hy inwendig beserings opgedoen het nie, maar hy moet erger beseer wees as
wat dit op die oog af lyk, anders sou hy nie nou in ’n beswyming gewees het
nie.”

Tanya voel asof sy in radeloosheid haar kop teen die muur wil stamp. Sy
weet haar oupa redeneer verstandig, en om eerlik te wees moet sy toegee dat
hulle die man nie by die huis mag uitsleep en iewers buite neergooi om van
blootstelling om te kom nie. Hulle moet hom aan die lewe hou tot die polisie
hom kom haal sodat hy voor die regsbank verantwoording vir sy misdade kan
doen. Dis net dat sy so vreeslik ontsteld en bang is. Hierdie mens wat hulle

gered het, is ’n gewelddadige monster!

“Ek sal hom was terwyl jy gaan kyk wat jy kan saamflans om hom te voer.

Iets soos dun sop of hawermout. Ek het probeer om hom water te gee, maar
hy kon dit nie sluk nie.”

“Dan sal hy ook niks anders kan inkry nie, Oupa,” redeneer sy onwillig.

“Ek wil Oupa nie alleen by hom los nie. Ek sal help om hom te was. Dalk kry
ons ’n besering wat verklaar waarom hy bewusteloos is.”

“Goed dan,” gee Andries toe.

Tanya gaan haal ’n skottel in die kombuis, gooi van die warm water in die
kastrol daarin, vat ’n ongebruikte spons en seep en dra dit saam met ’n
handdoek na die siekekamer. Haar oupa het die man se hande losgemaak en
die beddegoed afgeskuif sodat sy bolyf ontbloot is. Teësinnig kyk sy na die
man se breë skouers, stewige, bruingebrande bolyf en die spiere oor sy maag
wat selfs in sy ontspanne, bewustelose toestand duidelik sigbaar is. Hy lyk
soos iemand wat graag in die buitelug kom en lief is om te oefen. Soos Riek,
wat ’n bestaan maak uit sy vakansiekamp waarheen avontuurlustiges stroom.

Vererg pluk sy haar gedagtes bymekaar en begin die man se bebaarde gesig
was. Dis nie maklik nie en Andries help haar om die bloed en modder uit die
gekoekte donker hare en stoppelbaard te was. Toe Andries die man se kop
draai, sien hulle ’n wond agter sy linkeroor waar hy met die valslag ’n klip
moes getref het. Sy gaan haal ’n skêr en sny die hare om die wond weg om
dit skoon te maak.

’n Skielike impuls om die man iets aan te doen, pak haar beet en sy sny groot
klosse hare onnodig af. Haar oupa kyk vraend na haar, maar sê nie ’n woord
nie. Miskien dink hy ook soos sy aan Ammie wat kom hulp soek het om die
man se lewe te red terwyl hy op pad huis toe was. As hy nie so onbaatsugtig
opgetree het nie, het hy miskien nog geleef.
Warm trane loop opnuut oor haar wange. Andries vat die skêr uit haar
bewende hande voor sy tot ’n onbesonne daad oorgaan en stoot haar by die
deur uit. Hy maak die deur ferm agter haar toe en oorstelp van hartseer en
woede leun sy daarteen. Hoe gaan sy hierdie lang, donker ure oorleef met
haar gedagtes wat haar tot raserny wil dryf?

Twintig minute later stap sy die siekekamer met ’n bakkie kitshoendersop en


’n lepel binne. Terwyl sy vir die water gewag het om te kook, het sy haar
gesig gewas, hare gekam en vertoon nou uiterlik kalm. Andries kyk krities na
sy kleindogter en knik tevrede omdat sy haar selfbeheersing herwin het. Hy

het intussen die man gewas so goed as wat dit vir hom moontlik was en selfs
sy hare op ’n manier uit sy gesig weggekam sodat hy minder na ’n
wildewragtig lyk.

“Hoe gaan dit hier, Oupa? Sal hy kan eet?”

Andries skud sy kop. “Sy koors is baie hoog en ek weet nie of hy sonder die
regte behandeling die nag gaan oorleef nie. Hy hoort in ’n hospitaal waar hy
aarvoeding en of bloed kan kry.”

“Hoe lyk die wond aan sy kop?”

“Nie so erg soos wat ek aanvanklik gedink het nie. Ek het dit probeer skoon
was, maar ons sal dit moet ontsmet. Ek kry nie breuke nie, maar wat weet ek
wat ’n leek is? Ek kan nie dink waarom sy koors so hoog is nie. Ai, Ounooi,
ek wens byna Ammie het ons nie van hom vertel nie, dan het die onus nie op
ons gerus om hom te help nie.”

In ’n ander tyd of konteks sou haar oupa se hardvogtige opmerking haar


geskok het, maar sy begryp hoe hy voel. Die gedagte het ook by haar
opgekom. Waarom moes Ammie juis vandag by die holkrans rondgedool
het? Sy sug. Die man is nou hier en hulle moet hom help.

Sy gaan haal die noodhulpkissie, ontsmet die wond en plak dit toe.

Grimmig kyk sy na die kaal kolle waar sy die man se hare in ’n vlaag van
woede afgeknip het. As haar oupa nie daar was nie, het sy moontlik drastieser
opgetree.

Op universiteit het sy ’n diploma in noodhulp behaal en sy lig ’n spuitnaald


en ’n botteltjie koorswerende pynstiller op. “Kan ons die kans waag dat hy
nie allergies is nie?”

Andries knik en nadat sy die man se koors geneem het, spuit sy hom in.

Daarna sit sy die spuitnaald neer om dit weg te gooi en pak alles netjies terug
in die kissie. Hulle sal gou sien of dit gaan help.

“Oupa, ek het vir ons ook van die sop gemaak en ons moet dit saam met
brood eet. Dis te laat om nou kos te kook. Ek sal hier sit terwyl Oupa gaan
eet. Moet asseblief nie stry nie,” voeg sy amper pleitend by toe hy sy mond
oopmaak om te protesteer.

Andries knik inskiklik, stoot sy vingers liefdevol deur haar hare en stap uit.

Sy kry ’n kraffie drinkwater en ’n skoon waslap wat sy natmaak om sy gesig


mee af te vee. As sy koors nie daal nie, sal sy met haar oupa se hulp sy hele
lyf moet afspons.

Later kom hulle ooreen dat haar oupa gaan slaap terwyl sy langs die siek

man waak. Ná middernag kan hulle skofte ruil. Sy trek vir haar ’n stoel nader
en gaan sit terwyl sy die man se bloeddruk neem en haar vingers op sy pols
rus. Sy bloeddruk is gelukkig nie laag nie en dit laat haar hoop dat hy nie
inwendig beseer is nie. Aan die ander kant, indien dit te hoog is, kan
noodlottige komplikasies intree. Sonder enige mediese opleiding is sy nie
bevoeg om ’n diagnose te maak of tot enige gevolgtrekking te kom nie.

Waarom kom die man nie by nie? Sy trek sy ooglid op. Sy oë is groen soos
die nat blare van ’n akkerboom. Dit verras haar omdat sy gedink het dit sal
donker wees. Swart soos die donker siel van ’n gewetenlose misdadiger. Nou
is dit die kleur van sonskyn en lewe; van die groen chlorofil van plante wat
die milde sonskyn indrink. Dit laat haar met intenser belangstelling na sy
gesig kyk. Sy lippe is ferm en sy ken, bedek met ’n paar dae se baardstoppels,
vierkantig met ’n kepie in. Om sy oë en mondhoeke keep lagplooie. Kan ’n
moordenaar gelukkig lag, of is dit die grynslag van iemand wat dit geniet om
ander te martel en dan te vermoor?

Sy ril. Spyt omdat sy toelaat dat negatiewe gedagtes haar met vrees vul, draai
sy die vlam van die paraffienlamp ’n bietjie hoër. Aanvanklik wou sy dit
geblus het en net ’n kers opgesteek het omdat die sagte vlam rus vir moeë oë
bring. Nou is sy bly sy het dit nie gedoen nie. Oral in die hoeke skuil donker
skaduwees en sy onthou hoe sy as kind bang was vir die monster onder die
bed wat gewag het dat haar voet of hand oor die rand moes hang om haar te
gryp. Veral in die jare kort ná haar ouers se dood toe sy hier by haar oupa
kom bly het. Haar ouers wat genadeloos deur rowers doodgeskiet is. Mense
soos hierdie gewetenlose man.

Ongedurig staan sy op en stap ’n draai deur die kamer. Sy luister na die reën
wat onophoudelik val en die geloei van die wind deur die takke en om die
hoeke van die huis. Hoekom moet sy juis vannag weer aan daardie hartseer
tyd terugdink?

Skielik word sy bewus van ’n roering op die bed. Sy stap nader. Die man
steun aanhoudend en rol sy kop heen en weer. Sy voorkop brand onder haar
hand. Haastig kyk sy op haar horlosie. Miskien is die inspuiting uitgewerk en
moet sy hom nog ’n dosis gee. Nadat sy dit gedoen het, hou sy haar hand op
sy pols kyk op haar horlosie. Sy pols is baie vinnig.

Die arm in haar hand roer en verras sien sy dat sy ooglede op skrefies oop is
en dat hy na haar staar. Sy lippe beweeg asof hy iets wil sê en sy tong lek oor
die droogheid daarvan. Versigtig vee sy met die klam waslap oor sy droë

lippe en drup ’n paar waterdruppels in sy mond. Hy kry dit nie gesluk nie en
dit loop soos kwyl by sy mondhoeke uit en oor sy ken. Met haar arm onder sy
kop lig sy hom op en probeer weer eens om hom te laat water drink en
hierdie keer slaag sy daarin. Sy laat sak sy kop terug op die kussing en sy oë
gaan toe. Nog ’n laaste steun en sug is hoorbaar voor hy stil word.

Weer sit sy haar vingers op sy pols en voel hoe die lewe deur sy are klop.

Later verskuif haar hand en hou sy die hand met die mooi, lang vingers vas.
Sy naels is geskeur en vuil, maar sy kan sien dat dit voorheen netjies versorg
was. Sy kry haarself nie sover om sy hand terug op die bed neer te lê nie.

Uitgeput rus sy met haar voorkop op haar gevoude arm op die bed en maak
haar oë toe. Net ’n paar minute rus, belowe sy haarself, dan sal sy haar oupa
gaan roep. Sonder dat sy besef, ontspan sy en sluimer in.

Sy skrik vervaard wakker en voel hoe die man baie effens met sy vingers aan
haar hare raak. Sy ooglede is op skrefies oop sodat sy die blink van sy oë kan
sien. Sy lippe roer en sy leun nader om te hoor wat hy fluister. Al wat sy uit
sy geyl kan wys word, is die woorde “engel”, “hare” en “rooi”. Sou hy in sy
koorsige toestand haar met ’n engel vergelyk wat rooi hare het?

Sy lig sy kop op en hou die glas water voor sy mond. Sy lippe gaan oop, maar
hy het steeds nie genoeg spierbeheer om te sluk nie en die water loop teen sy
ken af. Hy lek met sy tong oor sy lippe en weer wil hy iets sê, maar sy
verstaan hom nie. Versigtig om hom nie te laat verstik nie, drup sy met die
waslap water in sy mond en vee oor sy droë lippe. Sy sal haar lipsalf gaan kry
en aan sy lippe smeer. Dit behoort vir die droogheid en seer te help.

Skemerte sypel deur die venster en sy blaas die lamp dood. Haar lyf voel tam
en haar spiere is seer. As haar oupa geslaap het, behoort hy ’n goeie nagrus te
gehad het. Sy sal hom gaan roep om by haar oor te neem.

In die gang loop sy hom raak. Hy het intussen koffie gemaak en ná ’n paar
sinne oor en weer, vat sy haar beker koffie en stap na haar kamer toe.

Ingedagte sluk sy die warm koffie en trane wel in haar oë op. Deksels! Is sy
so deur die slaap dat sy nie besef het dit sal haar brand nie?

Haar oupa het vuur in die ronde antrasietstofie gemaak sodat daar warm
water is as sy wil bad. Sy sal die badkamer langs die kombuis moet gebruik
omdat die ander badkamers se warmwaterpype nie aan die stofie gekoppel is
nie. Te moeg daarvoor stroop sy die klere van haar af, plons op haar bed neer,

trek die snoesige beddegoed oor haar en gee haar oor aan die genadige slaap.

Die geur van potbraaivleis laat Tanya besef sy is honger. Sy wip uit die bed,
trek jeans en ’n T-hemp aan en sonder om haarself die tyd te gun om gesig te
was of hare te kam, stap sy haastig kombuis toe. In ’n ysterpot op die
antrasietstofie prut ’n beesstert. Sou mamma Sofia ingekom het om vir hulle
kos te maak? Dan beteken dit dat die brug oop is en dat Ammie veilig is.

Vol afwagting begin sy na die geliefde ronde gestalte van mamma Sofia soek.
Sy roep na haar, maar al een wat sy raak loop, is haar oupa wat by die
siekekamer uitgestap kom.

“Wat lawaai jy so?” raas hy met haar.

“Is mamma Sofia hier, Oupa? Is die rivier afgeloop? Is Ammie veilig?”

“Dis net ek en jy en die siek man wat hier is, daarom kan ek nie een van jou
ander vrae beantwoord nie.”

“Die kos op die stofie … ek het gedog …” Haar stem word yler namate haar
opwinding teleurstelling word. “Dis Oupa wat die kos aan die kook gesit het,
nè?”

“Ja, ek het die beesstert uit die vrieskas gehaal om te kook. Gelukkig werk
die vrieskas met gas, anders het ons alles daarin verloor. Dit reën steeds en ek
weet nie of die rivier se vlak al gedaal het nie.” Die teleurstelling op haar
mooi gesig vul hom met deernis en hy gee haar ’n drukkie. “As jy jou wil
opknap, dan kan ons netnou eet.”

Sugtend besef sy dat sy nie meer honger is nie. “Hoe lyk die man, Oupa? Is
sy koors steeds so hoog?”

“Ja, Ounooi. Ek is bevrees hy gaan dit moontlik nie oorleef as hy nie baie gou
professionele hulp kry nie.”

Sy stap summier na die gastekamer waar die man lê. Die vertrek ruik benoud
en sy stoot die een venster effens oop sodat ’n koel, reënnat bries die reuk
van koors kan verdryf. Hulle sal die man weer moet was en die bed moet
skoon oortrek. Al is sy nie ’n verpleegster nie, besef sy dat geen sieke so stil
kan lê sonder persoonlike versorging nie.
Sy donker hare kleef natgesweet aan sy slape en dit lyk asof die lyne op sy
gesig verdiep het. Sy asemhaling is vinniger en vlakker sodat sy, sonder om
die koorspennetjie te gebruik, kan voel dat hy ’n hoë koors het. Sal hulle sy
lewe sonder mediese hulp kan red? Sy voel skielik ’n deernis in haar. Wie is

hy? Het hy geliefdes wat angstig op nuus van hom wag? Of is hy die
voortvlugtige wat in die wildernis ’n skuilplek kom soek het?

“Oupa, ek gaan ry om te kyk of die rivier al gesak het,” lig sy haar oupa in
nadat sy die kombuis opgeruim het. Noudat sy weet dat mamma Sofia nie sal
inkom om te help nie, voer sy die take vinnig uit. Hulle pasiënt slaap
onverpoos nadat sy hom nog eens ingespuit het. Haar onrus neem toe. Die
spuitstof is amper gedaan.

“Versigtig wees,” groet haar oupa met ’n vermaning.

Afgetrokke skuif sy agter die Jeep se stuur in. “Anderdag, Rosie,” troos sy
haar pienk motortjie wat half afgeskeep eenkant staan. “Jy sal nie van die
reën en modder hou nie.” Ook nie goed vastrap in die modderpad en kragtig
teen die walle uitklim nie, voeg sy in haar gedagtes by. Meteens voel dit asof
sy histeries aan die lag kan gaan. Hier gesels sy met ’n lewelose voorwerp
asof dit familie is. Sy sal beslis vir ’n paar dae iewers moet gaan vakansie
hou tussen luidrugtige mense en spelende kinders sodat sy weer kan normaal
word. Die voortdurende saamleef met sprokieskarakters begin met haar kop
smokkel!

Die sonstrale kry nêrens ’n opening tussen die grys reënwolke om deur te glip
na die deurdrenkte aarde nie en tussen die bome en struikgewas bly dit
skemer terwyl die water met eentonige reëlmaat drup. Hoewel Tanya lief is
vir die eendeweer, sal sy vandag die blou lug en warm sonstrale verwelkom.

Die onsekerheid stem haar ongedurig. Wie is die vreemde man vir wie sy en
haar oupa noodgedwonge onderdak gee? Gaan hy herstel, of sal sy moet
aanskou hoe sy lewensvlammetjie al flouer brand tot dit eindelik geblus
word?

Om van die swartgalligheid ontslae te raak, skakel sy die radio aan. Die nuus
word gelees en halfhartig luister sy na die wêreldwye politieke onluste,
stakings en prysverhogings wat aan die orde van die dag is. Eintlik niks nuuts
nie.

Sy wil die radio afskakel, maar haar hand versteen in die lug terwyl sy luister
hoe daar oor die erge vloede en oorstromings berig word. Eskom en Telkom
onderneem albei dat hulle werknemers dag en nag werk om die voorsiening
van elektrisiteit en telefoonverbindings te herstel. Die beskadigde brûe en
paaie word deur siviele ingenieurs ondersoek wat beramings maak van hoe
lank die paaie gesluit sal bly. Asof dit onbelangrik is, sluit die nuusleser af
met ’n berig dat die ontsnapte vermeende moordenaar, Hendrik

Human, steeds op vrye voet is. Die polisie versoek die publiek om hom nie te
konfronteer

nie

omdat

hy

uiters

gevaarlik

is.

Volgens

die

hoofondersoekbeampte beskik hulle oor verskeie leidrade wat tot ’n spoedige


opsporing en gevangeneming kan lei.

VYF
Dit lyk nie asof die rivier se vlak enigsins gedaal het nie. Die bruin
modderwater vol allerlei opdrifsels spoed steeds met ’n gedreun voort see
toe. Dit reën nie op die oomblik nie. Sy klim uit die Jeep en is sommer vies
vir haarself toe haar voete enkeldiep in die modder wegsak. Kon sy nie gekyk
het wat sy doen nie? Haar nuwe tekkies is heeltemal verrinneweer, daarvan is
sy seker.

Sy trek haar tekkies uit en stap kaalvoet na die kant van die rivier waar sy
vassteek en oorweeg of sy die tekkies moet afspoel. Liewer nie. Netnou
verloor sy een of albei in die sterk stroom. Modder krul tussen haar tone deur
en dis nogal nie te onaangenaam nie. Jare gelede het sy as klein meisietjie
graag kaalvoet in die reën gedans en in die waterpoele gespeel. Toe was sy
nog ’n onbevange kind sonder die terughouding en sogenaamde wysheid wat
volwassenheid bring.

Onverwags hoor sy ’n getoet. Sy kyk na die oorkantste oewer en sien verras


dat Riek met sy viertrek daar stilgehou het. Hy het waarskynlik ook kom kyk
of hy nog nie kan deurkom na hulle toe nie. Vrolik waai sy vir hom.

Hy wuif terug en sy verbeel haar sy kan sy glimlag sien. Dierbare Riek! Hy


maak sy hande bak voor sy mond en roep na haar, maar die gedruis van die
rivier verdoof sy stem.

Sy skud haar kop en wys na haar ore. Weer roep hy sonder sukses na haar.

Hy wil seker weet of sy en haar oupa oukei is. Sy lig albei haar duime as
teken dat alles reg is. Nou beduie hy na sy mond asof hy eet en weer gee sy
die teken dat alles nog reg is. Kos is nie hulle probleem nie. Verbinding met
die buitewêreld wel. Dan probeer sy om met haar hande bak voor haar mond
na Ammie te verneem. Hy begryp egter nie en deur gebaretaal kan sy
onmoontlik na die seun se welstand vra. Moedeloos haal sy haar skouers op
en gooi vir hom soene. Dit behoort hom gerus te stel dat dit goed gaan met
haar en haar oupa.

Dit begin weer reën en sy klim terug in die Jeep. Hy bly bedagsaam staan tot
sy agteruitgestoot het en met die voertuig se neus terug in die pad haar

hand deur die oop venster steek om vir hom te waai. In die truspieëltjie sien
sy hoe hy in sy viertrek klim. Sy het geen rede om langer langs die vol rivier
te vertoef nie en ry stadig terug huis toe waar haar oupa bekommerd op haar
koms wag. Terug na waar ’n siek vreemdeling van hulle afhanklik is om hom
te versorg en aan die lewe te hou.

Daardie nag breek die krisisuur aan. Bekommerd gaan roep sy haar oupa en
hulle sit langs sy bed en bid in hulle harte dat hy gespaar bly. Selfs al verdink
hulle hom van gruweldade, het hulle nie die reg om hom te veroordeel sonder
om hom die kans te bied om homself te verdedig nie.

Koorsig rol sy kop op die kussing en hy mompel ylend. Hulle kan nie sin
maak uit wat hy sê nie, spons net sy beswete gesig met die klam waslap af en
drup water in sy mond. Meteens verstil hy en net toe Tanya beangs wonder of
hy heengegaan het, fladder sy ooglede op ’n skrefie oop.

Sy lippe roer en met haar oor teen sy mond maak sy uit dat hy water vra.

Versigtig lig sy hom op sodat haar oupa die glas teen sy mond kan hou.

Straaltjies loop by sy mondhoeke uit, maar hy sluk tog ’n mond vol. Weer
beweeg sy lippe skaars en sy verbeel haar dat hy “dankie” fluister. Daarna
ontspan hy en raak aan die slaap.

“Oupa?” vra sy onseker in kinderlike vertroue dat die ouer man sal weet.

“Gaan hy herstel?”

Andries glimlag moeg en druk sy kleindogter se hand bemoedigend. “Ek dink


ons gebede is verhoor, Ounooi.”

“Het Oupa ook gebid?”

Hy frons omdat hy haar vraag as oorbodig beskou. “As sy eie mense hier
was, sou hulle tot God geroep het om sy lewe te spaar, nie waar nie? Ek het
dit namens hulle gedoen.”

Trane van deernis brand in haar moeë oë. “Dankie, Oupsie.” As haar oupa
destyds, toe haar ouers geskiet is, betyds by die hospitaal opgedaag het om
vir hulle herstel te bid, sou hulle oorleef het, onthou sy hoe haar kinderlike
geloof haar deur die eerste donker weke en maande ná haar ouers se dood
gedra en getroos het. Selfs vandag nog versterk dit haar geloof in die
goedheid van haar Skepper deur te glo in die krag van gebed. Sy sal nooit
toelaat dat die wysheid en sinisme van volwassenheid haar sienswyse
verander nie.

“Gaan dit baie snaaks klink as ek weer eens vertel dat ek nie weet wie ek is
en wat my naam is nie? Selfs noudat my kop helder is, weet ek steeds nie.”

“Ons, ek en my oupa, het bespiegel dat jy moontlik aan geheueverlies ly


omdat jy nie dadelik jou naam kon onthou nie. Nogtans het ons gehoop dat
dit net disoriëntasie as nagevolg van die koors was.”

Tanya skud die kussing in die skoon sloop in. Haar hande verstil terwyl sy na
die man kyk wat op die leunstoel sit terwyl sy die bed met vars linne oortrek.
Noudat hy geskeer en sy donkerbruin, byna swart hare uit sy gesig gekam is,
sien sy hoe aantreklik hy is. Nie model- of filmstermooi nie. Hy het

’n sterk, manlike gesig wat spreek van krag en wat vertroue inboesem, maar
toon nogtans tekens van weerloosheid. Verwarring keep diep plooie op sy
breë voorkop en sy buitengewone groen oë, wat haar aan sonlig op blare
herinner, is troebel van erns. Sy lippe is ferm, maar weerspieël tog verskuilde
sagtheid. Die soort mond wat dié van ’n vrou teer in besit sal neem en
vertroetel voor dit algaande die hartstog in haar opwek wat syne sal ewenaar
en hulle tot vurige passie sal aanhits.

“Ek weet nie of ek kan saamstem nie.” Gelukkig is hy afgetrokke sodat hy


nie opmerk hoe haar gedagtes haar laat bloos nie. Haastig wend sy haar blik
af en wag dat hy verder praat. “Moontlik net tydelik en gedeeltelik,
aangebring deur die wond aan my kop.”

Hy raak versigtig aan die seerplek agter sy oor en skuldig wonder sy of hy


kan voel hoe onnodig sy met die skêr onder sy hare ingeklim het. “My
geheue is nie heeltemal uitgewis nie. Dit blokkeer net besonderhede oor
myself. Ek onthou wêreldgebeure, die politieke leiers van ons land en
alledaagshede, maar ek kan myself nie in ’n spesifieke situasie plaas nie. Dit
laat my hulpeloos en skuldig voel. Ek is bang julle sal glo ek is met ’n spel
besig of gee voor. Jy moet my glo dat ek werklik hard probeer om meer van
myself te onthou.”

Sy knik begrypend, hoewel sy haar nie in so ’n bisarre situasie kan indink


nie. “Oupa reken jou geheue sal terugkeer namate jou liggaam herstel en
sterker word. Jy was baie siek.”

Hy kyk stip na haar en die onverbloemde bewondering in sy blik maak haar


onhandig. Soos ’n bakvissie wat vir die eerste keer verlief raak, dink sy
verleë. Dis geensins die geval nie. Sy was in haar tienerjare dikwels tot oor
haar ore en hartverskeurend verlief, en later op universiteit was sy soms in
verhoudings gewikkel wat op niks uitgeloop het nie. Nou is daar Riek tot wie

sy aangetrokke voel en wie se vriendskap sy hoog aanslaan, maar of dit sal


verdiep tot innigheid, moet die tyd nog leer.

“Jou oupa is ’n wyse man,” beaam hy peinsend. Dan praat hy oor die
onsekerheid wat by hom spook sedert hy genoegsaam herstel het om verby
die pyn en moegheid te dink. “Sodra ek sterk genoeg is, moet jy my gaan wys
waar ek geval het. Dalk is daar iets van my wat my sal laat onthou. Sou ek
daar gekampeer het? Was daar nie miskien ’n rugsak of ander bagasie nie?”

“As daar was, sal ons dit nie kry nie. Die vloedwater het alles saamgevat see
toe. Ons het jou mos vertel ons het jou net-net betyds gekry, anders sou jy dit
nie oorleef het nie.”

Hy knik sonder om sy asem te mors deur hulle nog eens te bedank en verval
in stilte tot sy die bed opgemaak en die beddegoed weggevou het. Sy help
hom orent en hy steun die paar tree op haar tot hy op die rand van die bed
neersak. Haar oupa het vir hom somerslaapklere geleen, maar die baadjie is te
klein en het om sy breë skouers gespan sodat hy net die kortbroek aangetrek
het. Oral op sy lyf is donkerblou kolle en merke wat haar oupa laat wonder
het of hy nie onlangs in ’n ander ongeluk betrokke was nie. Moontlik die rede
waarom hy so verswak was dat die val en die ure van blootstelling voor
Ammie hom gekry het, hom so siek gemaak het. Sy help hom om sy voete op
die bed te lig en die beddegoed reg te trek. Om sy lippe huiwer ’n skewe
glimlag.

“Jy is ’n wonderlike verpleegster, Tanya. Dankie dat julle julle oor my


ontferm het. Wat sou andersins van my geword het?”

Verleë kyk sy weg sodat hy nie in haar oë kan sien wat dit aan haar doen om
so intiem naby hom te wees nie. Met haar arm om sy middel was sy intens
bewus van sy kaal bolyf teen haar. Dit het onverwags iets aan haar gedoen
waarvoor sy nie woorde het nie. Gewoonlik is haar oupa byderhand sodat
hulle nie alleen is nie, maar aangesien dit tydelik opgehou reën het, is hy uit
om te gaan kyk wat buite aangaan.

“Ek gaan maak gou vir jou tee,” ontwyk sy ’n antwoord. “Soos ek reeds
verduidelik het, is daar net poeiermelk omdat ons afgesny is van die dorp en
dus nie vars produkte kan koop nie.”

Hy rus teen die opgestapelde kussings en die beddegoed bedek net sy


middellyf af ondertoe sodat sy bors, breë skouers, gespierde boarms en
stewige nek sigbaar is. Die geamuseerde blik in sy oë en die effense inkeep
van sy mondhoeke laat haar wonder of hy besef wat hulle aanraking aan haar

gedoen het. Hy laat niks blyk toe hy antwoord nie: “Jy moet asseblief nie om
my onthalwe moeite doen nie.”

“Ek is self lus vir ’n koppie tee,” stel sy hom vriendelik gerus. Enigiets om
die skielike spanning tussen hulle te verbreek.

Met die bondel beddegoed stap sy waskamer toe waar sy dit by die ander sit.
Sjoe, die elektrisiteit beter herstel word sodat sy die wasmasjien kan
aanskakel. Om dit met die hand te was is buite die kwessie en voor die rivier
nie afgeloop en die brug herstel word nie, sal mamma Sofia nie kom werk
nie. Indien Ammie dalk verdrink het, sal sy nie van die dierbare vrou wat
haar soos ’n ma versorg het, kan verwag om in te kom nie. Ai, as die
kragtoevoer tog net herstel word.

Terwyl hulle tee drink, vertel sy hom waar presies hulle grond geleë is en
waarom haar oupa, wat ’n voëlkenner is, dit teen besoedeling en indringers
bewaar.

“Wat moet ek jou noem?” vra sy skielik omdat die feit dat hy naamloos is,
’n irriterende ongemaklikheid skep.

Hy haal sy skouers op. “Enigiets,” sug hy gelate. “Dis waarom ek so gehoop


het dat ek iewers ’n rugsak met my persoonlike besonderhede in gelos het.”
Hy frons nadenkend. “Die seun wat my gekry het, het dit nie dalk gevat nie?”

“Beslis nie!” roep sy verontwaardig uit.

Daar kom trane in haar oë by die gedagte dat Ammie dalk sy lewe opgeoffer
het om die vreemdeling te red. Hy verdien nie om vals beskuldig te word nie.
Nie Ammie met die onskuld van ’n kleuter in sy hart en sy groot liefde vir
mens en dier nie. Veral nie Ammie wat soos ’n hondjie agter haar oupa
aangeloop het en by die ouer man geleer het van die natuur en van die voëls
nie. Hy was haar oupa se regterhand en het gereeld kom verslag doen oor die
voëlneste in die kranse en hoogste boomtakke omdat haar oupa nie self meer
kon opklouter of klim nie. Waarskynlik het hy gaan kyk of die eiers in die
skaars aasvoëlneste al uitgebroei het toe hy die vreemdeling aan die voet van
die krans sien lê het.

“Ekskuus, ek wou nie aanstoot gee nie. Ek het net gehoop die moontlikheid
bestaan dat hy dit dalk agterna opgetel het. Sal jy hom vra? Hy kan alles hou
wat in die sak was, solank ek my dokumente of dalk iets anders kan kry wat
my identiteit moontlik kan bewys.”

Ontsteld gaan staan sy voor die venster en kyk na die reënnat bome en

plantegroei. “Dis nie moontlik nie, want hulle bly aan die oorkant van die
rivier,” verduidelik sy gesmoord nadat sy weer beheer oor haar stembande
gekry het.

Sy gaan hom nie vertel dat Ammie waarskynlik verdrink het nie. Hy het
genoeg om sy gedagtes besig te hou sonder om boonop skuldig te voel oor
wat by die rivier gebeur het. Sy gewaar beweging tussen die swart stamme en
is verlig toe sy haar oupa sien. Die wolke pak al weer digter saam en onder
die bome lê die skaduwees donker.

“Verskoon my, ek wil vir my oupa gaan koffie maak.”


Onthuts kyk hy haar agterna toe sy haastig by die kamer uitstap. Hy kan
aanvoel dat sy ontsteld is, maar begryp nie hoekom sy eenvoudige vraag haar
so ontstel het nie. Kan sy dan nie ten minste probeer verstaan hoe hy voel
nie? Hy lê in ’n vreemde huis waar hy deur goedhartige vreemdelinge
versorg word en hy het geen benul wie hy is of hoe hy hier beland het nie.

Waarom beskerm sy die seun? Wat weet sy wat sy nie met hom wil deel nie?

Uitgerus ná ’n goeie nagrus strek Tanya haar arms terwyl sy voor die oop
venster staan en die skoon lug diep inasem. Dis die eerste nag sedert hulle die
vreemdeling ingeneem het dat sy deurgeslaap het. Hopelik het hy ook ’n
goeie nagrus gehad en voel vanoggend stukke beter. Tog eienaardig hoe een
mens hulle roetine en gedagtes kom deurmekaargooi het.

Nadat sy haar gesig sommer in koue water gewas het, aangetrek en haar hare
gekam het, stap sy vinnig kombuis toe om die ketel op die gasstofie aan die
kook te kry vir koffie. Terwyl sy wag dat die water kook, loer sy ná ’n kort
kloppie by die siekekamer in. Hoewel die bed deurmekaar is ná die nag se
slaap, is daar geen teken van die man nie. Sy onderdruk haar oombliklike
onrus. Hy is dalk net badkamer toe. Dis ’n goeie teken, want dit bewys dat hy
sterk genoeg is om alleen te loop.

Steeds ongedurig maak sy die koffie en pak die bekers op ’n skinkbord.

Dis eienaardig dat haar oupa so laat slaap. Die lug is steeds bewolk sodat dit
nog baie vroeg lyk, maar haar oupa se ingeboude horlosie jaag hom altyd
klokslag sesuur uit die vere sonder dat hy ’n wekker hoef te stel.

Sy hoor stemme en kyk deur die venster bokant die opwasbak. Hoewel dit nie
meer reën nie, hang ’n klam mistigheid oor die werf en tussen die bome.

Hopelik sal die son binnekort deur die wolke breek. Twee figure kom stadig

tussen die bome uitgestap. Al kan sy nie die gesigte onderskei nie, herken sy
hulle aan hulle liggaamsbou.

“Oupa!” berispe sy die ouer man toe hulle by die kombuis ingestap kom en
die siek man dankbaar op ’n stoel neersak. Hy is kaalvoet met ’n kombers om
sy lyf gevou om hom teen die kilheid van die vroegoggend te beskerm “Dis
baie onbedagsaam van Oupa. Die … hy … is nog ver van gesond af. Dêmmit,
man, gee my ’n naam, enigiets. Ek kan tog nie deurentyd met of van jou as
die vreemdeling praat nie.”

“Ounooi, jy baklei met die verkeerde een,” betig Andries sy mooi


kleindogter. Hy beduie met sy wysvinger na die ander man, “Hý was reeds
buite toe ek uitgestap het.” Andries maak asof hy nie sien hoe bleek en
uitgeput die jonger man lyk nie. “Boeta, ek het jou gewaarsku dat haar rooi
hare nie uit ’n botteltjie kom nie en dat jy in jou spoor moet trap. Sy is net so
kwaai soos wat haar oorlede ouma Bellie was.”

“Jou oupa is reg, Tanya. Ekskuus dat ek jou laat skrik het.” ’n Skewe glimlag
pluk aan sy mondhoeke. “Ek was so moeg vir die gedagtes en vrae wat my
teen die mure wou uitdryf dat ek impulsief gaan stap het. Ek het nie besef ek
is steeds so swak nie. As oom Andries my nie betyds gekry het nie, het ek
onder ’n boom gesit en krepeer. Om die waarheid te sê, ek voel nou ook nie
alte lekker nie.”

“Drink jou koffie, dan help ek en Oupa jou kamer toe, meneer.” Hoewel sy
hardvogtig klink, pluk sy weerloosheid aan haar hartsnare. Sy wil na hom toe
gaan, haar arms om sy skouers vou en sy kop teen haar bors vasdruk. Haar
deernis vir die siek man wat ongenooi by hulle ingetrek het, is meer as blote
jammerte.

“Moenie vir my meneer sê nie,” wend hy ’n poging aan om driftig te wees,


maar sy stem is sag en sy hele liggaam bewe van uitputting. “Jy wil ’n naam
hê, nè?” Met albei hande om die beker drink hy die koffie en voel hoe die
hitte deur hom sprei. “Goed, noem my Bosman. Sommer Bossie Bosman.

Reg?”

Andries kyk met nougetrekte oë van die aantreklike man na sy kleindogter.

Jare gelede het hy self liefde gevind en hy het getrou gebly aan die vrou van
sy hart al die jare dat hulle saam was. Selfs vandag nog is sy die enigste vrou
wat ooit sy hart in pand gehou het. Hy weet dus van liefde en die liefdespel
wat dit voorafgaan. Hy herken die tekens en hy weet hy moet ingryp voor
Tanya haar hart verloor en diep gaan seerkry.

“Is jy seker dis jou naam, boeta?” vra hy skerper as wat hy wou. “Dink mooi,
is dit nie dalk Hendrik Human nie?”

“Oupa!” roep Tanya geskok uit. “Hoe durf Oupa?”

Haar woorde word verswelg deur die gekletter van brekende glas toe die
koffiebeker uit die man se bewende hande val. Hy het doodsbleek geword en
dit lyk asof hy gaan omval. Sy kop sak vooroor tot in sy oop hande en sy hele
liggaam ruk krampagtig. “Nee,” kreun hy skaars hoorbaar. “Nee, ek weet nie
wie Hendrik Human is nie. Dit voel nie asof dit my naam is nie. Noem my
asseblief Bossie Bosman. Dit pas my beter.”

SES

Sy sit op die leunstoel en hou haar besig met haar sketsboek en potlood. Net
af en toe kyk sy op na die siek man wat onrustig rondrol. Sy gesig is rooi en
natgesweet, sy asemhaling hortend. Sy impulsiewe optrede toe hy opgestaan
en kaalvoet met net die kombers om sy skouers by die huis uitgestap het, kom
hom duur te staan. Weer eens is hy koorsig en hoes af en toe. Gaan hy
boonop verkoue of griep kry as gevolg van sy ondeurdagte optrede?

“Ek is jammer,” prewel hy onsamehangend. “Ek wou dit nie gedoen het nie.
Ek weet nie hoekom dit gebeur het nie. Vergewe my.”

“Toemaar, dit was nie so erg nie. Slaap nou sodat jy kan gesond word,”

praat sy kalmerend, hoewel dit lyk asof hy nie haar woorde inneem of
verstaan nie.

Ná nog ’n hoesbui, prewel hy voort. Sy sit die sketsboek neer, maak die
waslap nat en vee oor sy gesig. Onverwags gaan sy oë oop en dit lyk asof hy
na iets of iemand skuins agter haar kyk. Iets onnoemliks wat hom verwilderd
maak.
“Nee, nee, moenie, moenie!” protesteer hy koorsagtig. “Moenie … seer …

hou op … nee!” Hy beur orent en sy druk hom plat. Nou kyk hy reguit na
haar en streel met sy vingers oor haar wang. “Jy’s … mooi. Mag nie …

seerkry … nie. Ek sal nie … moenie … seermaak … nooit … nie jy … nie!”

Ontsteld tree sy terug. Sy wil nie langer na sy onsamehangende sinne en


woorde luister nie. Dit maak haar bang. Sy onthou dat die voortvlugtige ’n
sadis is wat vroue martel voor hy hulle eindelik doodmaak en soos gebreekte
speelgoed weggooi. Verward kam sy met haar vingers deur haar hare.

Hoekom onthou sy skielik wat die kaptein en Riek hulle vertel het? Is dit
omdat haar oupa moedswillig die naam Hendrik Human genoem het en die
siek man daarmee gekonfronteer het? Of was dit sy reaksie wat haar steeds
bybly? Hy het dadelik verskoning gevra omdat hy die koffiebeker laat breek
het en sy het dit aanvaar. Waarom bly sy geskokte uitdrukking haar dan by?

Hierdie man wat homself Bosman noem, is tog nie die vermeende
moordenaar nie. Deur die sameloop van omstandighede het hy toevallig juis

nóú hier by hulle aangeland.

Die siek man verval in ’n rustelose slaap en sy vlug byna uit sy kamer uit.

Dit het nog nie weer gereën nie en plek-plek is ’n flentertjie blou lug sigbaar.

Sy kry haar oupa waar hy op die agterstoep besig is om die dik modder van
sy waterstewels af te krap. Hy word dadelik van haar teenwoordigheid bewus
en kyk bekommerd op na haar.

“Soek jy my, Ounooi?” verneem hy liefdevol. Die spanning wat lyne op haar
mooi gesig trek, laat sy hart verteder. “Wat is fout?”

“Niks eintlik nie,” ontwyk sy ’n reguit antwoord. “Ek wil gaan kyk of die
rivier se vlak gedaal het. Sal Oupa by hom … Bosman inloer om te sien of hy
oukei is?”

“Ek sal so maak, Ounooi.” Hy steek sy hand vertroostend na haar uit, maar sy
sien dit nie raak nie, want sy stap dadelik terug die huis in om die Jeep se
sleutel te kry. Andries sug bekommerd. Waarom moes die man juis nou sy
verskyning in hulle lewe gemaak en hulle rustige bestaan kom kompliseer
het?

In die kombuis skink hy vir hom koffie uit die outydse koffiekan wat op die
antrasietstofie staan. Afgetrokke kyk hy na die skerwe van die koffiebeker in
die vullishouer langs die wasbak en skud sy kop skepties. Wat moet hy van
die petalje dink? Hy hou van die mannetjie en sy hart vertel hom dat hy
onskuldig is, maar tog vreet die agterdog soos kanker in hom. Is hulle besig
om ’n slang aan hulle boesem te vertroetel?

Dit blyk dat Bosman slaap en die ou man sak op die leunstoel neer. Op die
tafeltjie langs die stoel lê Tanya se sketsboek. Hy tel dit op om te kyk
waarmee sy besig is en blaai byna verder voor dit tot hom deurdring dat die
gesig waarna hy kyk nie dié van ’n sprokieskarakter is nie. Dis ’n man se
gesig wat besig is om voor sy oë vorm aan te neem. Onwillekeurig kyk hy na
die slapende man op die bed en dan kan hy nie langer sy waarneming
betwyfel nie. Hoewel sy nog nie naastenby klaar is nie, eien hy dit as dié van
die slapende man.

“Ounooi, Ounooi, Ounooi,” sug hy beswaard. “Oupa se liefste meisiekind.

Waarom het hierdie beproewing oor jou pad gekom? Niks goeds kan hieruit
voortspruit nie.”

Die sonstrale wat deur die wolke glip en tydelik die grysheid verdryf, laat

Tanya ademloos na die skoonheid van helder ligbane teen die donker
agtergrond staar. Nat blare word met ’n lagie goudstof geverf en op die
vinnig vloeiende water dans skitterende kristalle op elke rimpeling. Haar oë
soek hemelwaarts tot sy die volmaakte belofteboog in al sewe verruklike
kleure duidelik geëts sien. “Hoe wonderbaarlik is u werke, o, Heer,” fluister
sy in nederige ootmoed.

Terwyl sy een word met die kalmte en vrede van die natuur, dink sy aan die
man met die groen oë wat sy in elke nat blaar sien, en geleidelik groei die
sekerheid in haar dat sy onherroeplik haar hart verloor het. Gedurende die
afgelope ure en dae wat sy in noue kontak met hom was, het haar siel en
liggaam uitgereik en verknog geraak aan hom. Die liefde wat haar wese vul,
lig haar op tot bokant die toppe van die hoogste bome. Selfs hoër as die
hoogste bergpiek sweef sy in stil verwondering tot sy aan die reënboog kan
raak en met uitgestrekte arms selfs hoër en hoër reik tot by die Bron van alle
liefde.

Dan skuif ’n wolk voor die son in en verdof alles tot ’n grys mistroostigheid.
Die reënboog verdwyn soos ’n lig wat afgeskakel word. Die water is weer ’n
dreunende bruin vloed wat sonder genade alles in sy pad meesleur. Druppels
val soos trane van die blare af. Sy druk haar voorkop teen die stuurwiel en
word verswelg deur ’n vloedgolf van twyfel en vrees. Wat as die man wat sy
liefhet ’n moordenaar is wat ’n veilige skuilplek by hulle gevind het? Gee hy
dalk net voor dat hy aan geheueverlies ly? Waarom het hy so geskrik toe haar
oupa hom met die naam Hendrik Human gekonfronteer het?

Hoe lank kan hy van hulle goedheid afhanklik wees voor hy gesond genoeg is
om weg te gaan? ’n Ander gedagte skiet haar te binne en draai ’n dolk in haar
swaar verwonde hart. Waarom het hy opgestaan en buite gaan stap terwyl hy
geweet het dit sal hom weer siek maak? Glo hy hulle sal hom nie vra om te
gaan terwyl hy siek is nie? Dan het sy plan geslaag! Hulle verpleeg en
pamperlang hom soos voorheen; waak getrou langs sy siekbed.

Nee, nee, weeklaag haar gekneusde hart. Hoe kan sy hom liefhê en steeds glo
hy is ’n sadistiese moordenaar?

Terug by die huis wag haar oupa haar in. Sy blik rus ondersoekend op haar en
sy skud haar kop in antwoord op sy woordelose vrae. Sy wil verbystap die
huis in om haar gesig te was, maar gelate aanvaar sy dat dit te laat is. Hy het
reeds gesien dat haar oë rooi gehuil is en dat daar steeds trane op haar wange

is. Sy wag dat hy haar moet uitvra of berispe, maar hy besef klaarblyklik dat
dit nie nou die tyd vir allerlei vrae en teregwysings is nie. Hy trek haar net
nader tot in die vertroostende kring van sy liefdevolle arms sodat sy met haar
kop teen sy bors kan rus. Sonder om na die rede vir haar trane te vra, begryp
hy dat die liefde nie aan hom laat voorskryf nie.

“Ek het goeie nuus, Ounooi.”


“Is Bosman beter?”

Hy haal sy skouers ongeduldig op. Is die man so belangrik dat hy die


middelpunt van haar gedagtes is? “Die elektrisiteitstoevoer is herstel.” Dit lyk
asof sy nie dadelik snap wat hy sê nie. “Die krag is aangeskakel. Wat gaan jy
eerste doen? Die wasgoed was? Jy het dan so gekla dat die mandjies tot
oorlopens toe vol is.”

“Oupa speel nie?” maak sy seker voor sy opgewonde vervolg: “Ek gaan my
selfoon laai sodat ek met Riek kan gesels.”

Andries pluk aan sy snor. Nou verstaan hy niks meer nie. Hier bekommer hy
hom oor ’n mik dat sy kleindogter beenaf is op die vreemdeling, maar die
eerste ding wat sy wil doen, is om Riek te bel. Het hy haar verkeerd gelees?

Het sy gehuil omdat sy na die blonde Riek verlang het?

Tanya drafstap na haar ateljee waar sy dadelik haar selfoon met die laaier
verbind. H’m, nes sy verwag het. Riek het omtrent twintig boodskappe vir
haar gelos. Sy lees dit nie eens nie aangesien sy ’n goeie vermoede het wat
die bewoording is. Vinnig stuur sy vir hom ’n SMS: “Ek is terug.” Daarna sit
sy die foon neer en gaan was haar gesig. Sy is nog besig om af te droog toe
lui haar sel. Soos sy verwag het, is dit Riek.

“Was jy dan weg?” trek hy speels haar been.

“Grappie!” Haar stem word ernstig. “My sel se battery was pap en ek kon dit
nie laai nie. Hoe lyk dit daar? Baie skade gehad?”

“’n Paar hutte se dakke is afgewaai, maar niks wat nie herstel kan word nie.
Meisiekind, jy weet nie hoe ek my oor julle bekommer het nie. Hoe gaan dit?
Het julle nog genoeg kos? Die laagwaterbrug is weggespoel en die drif kan
nog nie gebruik word nie. Ek kan na die hoofpad toe ry om vir julle kos te
bring as julle iets nodig het.”

“Tipies man om eerste aan jou maag te dink,” lag sy hom uit. “Om hierheen
te kom met die snelweg langs sal omtrent ’n vyftig of sestig kilometer draai
wees, so moenie eens daaraan dink nie,” keer sy hom opgeruimd. Ai, dis
lekker om sy dierbare stem te hoor. “Dankie, Riek, ek

waardeer jou aanbod, maar dis regtig nie nodig nie. Ons is oukei. Omdat ons
nie dikwels winkels toe gaan nie, sorg ons mos altyd dat die koskaste propvol
is indien ’n noodgeval opduik. Mamma Sofia het toegesien dat ons alles het.”

By die noem van Sofia Ortlap se naam versober sy. “Riek, hoe gaan dit met
hulle?”

“Gelukkig staan hulle huise taamlik hoog en die windskade is gering.

Geeneen van die klompie is beseer nie. Dis net mamma Sofia wat erg
bekommerd is.”

“Oor ons? My en Oupa?” hou sy haar dom, hoewel haar hart in haar keel
klop van angstigheid.

“Ja, julle ook, maar eintlik bekommer sy haar oor Ammie. Ek wou juis vra of
hy nie dalk daar by julle is nie?”

“By ons? Nee. Hoekom?” Kan hy hoor hoe bewerig skuldig sy klink?

“Ag, miskien is dit niks, maar sedert die rivier afgekom het, is hy net weg.

Sy het gehoop die vloedwater het hom afgesny en dat hy by julle is.”

“Is … is hy dan nie tuis nie?”

Sy is so ontsteld dat hy dit beslis moet hoor. Sy veg hard om haar trane terug
te hou. Dis nou die tyd om hom te vertel hulle vermoed Ammie het verdrink,
nogtans kan sy haarself nie sover bring nie. Miskien skuil hy iewers en kom
hy nog te voorskyn, probeer sy haarself bluf. Hoekom mamma Sofia nou al
met die onnodige verdriet opsaal? As sy hom vertel wanneer en waar sy
Ammie laas gesien het, sal sy ook moet verduidelik van die beseerde Bosman
wat by hulle aansterk. Halsstarrig skop sy vas. Daarvoor sien sy nog nie kans
nie.

“Nee, hy het weer iewers rondgeloop soos sy manier is en nie huis toe gekom
nie. Ek sal haar moet vertel dat hy nie by julle is nie. Sy het so gehoop
…” Hy voltooi nie sy sin nie en sug omdat hy kennelik nie daarna uitsien nie.

Bedremmeld vra sy: “Dink jy hy het in die rivier geval? Dat hy dalk …”

Sy kan haar nie sover kry om haar vermoede hardop uit te spreek nie. “Ag,
Riek, dit sal mamma Sofia breek. Hy is al wat sy het.” Hoe gaan sy die ouer
vrou ooit weer in die oë kyk?

“Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, meisiekind.”

Sy wil groet, maar daar is nog iets wat swaar op haar gemoed rus. “Die
ontsnapte moordenaar, is hy al aangekeer?”

“Nie sover ek weet ek nie. In ieder geval nie in ons kontrei nie. O ja, jy sal
mos nie weet nie. Sonder krag beteken sonder radio of televisie.”

“Altyd sonder televisie,” herinner sy hom sonder om haar te vererg.

Hoekom glo almal dat iemand wat nie ’n televisie besit nie, van die
buitewêreld afgesny is? “Hoekom soek hulle nie langer na die man hier rond
nie?”

“Blykbaar het die kaptein en sy span berigte ontvang dat die skurk in die stad
opgemerk is. Uiteraard wou hy nie veel uitlap nie.”

“Dan beteken dit dat die voortvlugtige definitief nie langer in ons midde is
nie? Dat ons nie meer so in ons pasoppens hoef te wees nie? Sjoe, dis ’n
verligting. Ek het dit gehaat om gedurig oor my skouer te kyk.”

“Jip. Ek is self bly die onaangenaamheid is agter die rug. Die gure publisiteit
was nie goed vir besigheid nie.”

Sy groet byna onmanierlik haastig. Soos in haar skooldae dans sy ’n


vreugderiel. “Jippie! Bosman is onskuldig!”

Andries, wat steeds ’n betraande, ongelukkige Tanya verwag het, word verras
deur haar opgewondenheid toe hy in die oop deur van haar ateljee vassteek.
Wat het Riek Lotter haar vertel of belowe wat haar bui so verbeter het?
wonder hy onrustig.
“Het Riek jou gevra om met hom te trou?” terg hy, maar is tog ook ’n klein
bietjie angstig.

“Beter!” roep sy vrolik uit en draai soos ’n sesjarige in die rondte met haar
arms uitgestrek. “Hy het vertel dat die polisie berig ontvang het dat die
monster van ’n moordenaar hom in die stad bevind. Dis goeie nuus, nie waar
nie, Oupsie?”

“Nè?” vra hy skepties.

“Dit beteken dat Bosman se ongeluk by die holkrans toevallig saamgeval het
met die koms van die ontsnapte moordenaar en dat hy onskuldig aan enige
wandaad is,” blaker sy die rede vir haar ekstatiese vreugde uit en probeer
hom sommer met ’n pluimpie oortuig dat sy rede het om so te redeneer:
“Oupa was toe reg toe Oupa bespiegel het dat die skelm verder duimgegooi
het en nie in die omgewing geskuil het nie.”

Haar oupa skud sy kop meewarig, glad nie oortuig dat haar veronderstelling
korrek is nie. “Ek sou graag wou glo dat jy reg is, Ounooi, maar jy vergeet
een ding.” Haar opwinding taan terwyl hy haar met sy volgende woorde
platslaan: “Wie het dan die jong konstabel Janzen vermoor?”

Sy plons soos ’n ballon wat gebars het op ’n stoel neer. Dit breek sy hart

om haar geesdrif te demp, maar sy durf die naakte feite nie miskyk nie.

“Jammer om jou seepbel te bars, Ounooi, maar jy moenie te gou bly word
nie. Enigiets kan nog gebeur.” Vinnig verander hy die onderwerp. “Het jy
Riek gevra of Ammie toe ongedeerd is? Jy hét hom vertel die seun is
moontlik deur die vloedwater oorval?”

Sy laat sak haar kop skuldig en kyk na haar ineengestrengelde vingers.

“Oupa, dit lyk asof hy dit nie oorleef het nie. Mamma Sofia het gehoop hy is
by ons. Ek het stilgebly en gemaak asof ek nie weet dat Ammie die rivier
wou oorsteek teen die aanstormende water in nie. As ek het, sou ek moes
verduidelik het waarom ons by die holkrans was en ek wou nie.”
Sy kyk vraend op. “Oupa, is ek ’n baie slegte mens omdat ek Riek nie van
Bosman vertel het nie? Ek weet self nie waarom ek sy teenwoordigheid hier
geheim hou nie. Ek is oortuig dat hy nie die voortvlugtige is nie, maar dit
voel vir my asof ek sy vertroue sal verraai as ek bekend maak dat hy hier is.

Dit kan tog nie ’n verskil aan Ammie se lot maak nie. Oupa, wat is die regte
ding om te doen?”

“Dit moet jy self besluit,” weier hy om dit vir haar makliker te maak.

“Onthou jy dat ek jou van jongs af geleer het dat ’n leuen ’n kort been het?

Wel, rig jou optrede daarvolgens en jy kan nie ’n fout maak nie. Kom nou,
moenie so gou moed opgee nie. Ek gaan Bosman nie summier vryspreek of
beskuldig nie, nogtans kan dit wees dat die moordenaar nadat hy die jong
konstabel vermoor het, die hasepad gekies het. Dié dat hy in die stad
opgemerk is.” As dit hy was wat konstabel Janzen aangeval het, kom die
gedagte by hom op, maar hy wil dit nie hardop uitspreek en haar verder
ontstel nie.

“Dankie, Oupa,” glimlag sy trietsig tussen haar trane deur. “Ek sal daaroor
dink of ek Riek van Bosman en Ammie wil vertel.”

“Wag tot jy voel jy is reg daarvoor, daar is geen haas nie,” stel hy voor.

Nie omdat hy glo die jong seun skuil moontlik iewers ongedeerd nie, maar
om sy kleindogter die kans te bied om haar gedagtes behoorlik agtermekaar
te kry. Sy klink baie onseker en verward.

Tanya hoor ’n beweging en kyk van haar boek af op na die bed waar Bosman
slaap. Hy het wakker geword en kyk fronsend op na die dik balke waarop die
grasdak rus. Dit lyk asof hy nie kan uitpluis waar hy is nie.

“Hallo,” groet sy vriendelik. “Lekker geslaap?”

Hy fokus sy blik op haar waar sy op die leunstoel voor die venster sit sodat sy
kan lees sonder om ’n lig aan te skakel. Herkenning steek ’n lig in sy groen
oë aan en hy glimlag flou.
“Jy moet dink al wat ek kan doen, is slaap,” verontskuldig hy homself.

“Slaap is goeie medisyne,” troos sy hom. “Hoe voel jy?”

“Die medisyne het gewerk, ek voel baie beter.” Hy skuif teen die kussings op
en vou sy hande agter sy kop. ’n Pyntrek flits oor sy gesig toe hy per ongeluk
teen die wond agter sy oor druk. “Jy is die beste verpleegster waarvoor ’n
mens kan vra.”

Sy onderdruk die impuls om op te staan en na hom toe te stap. “Ek het geen
mediese kennis nie en wat ek van verpleegkunde weet, is uiters gevaarlik.”

“Dan moet jy ’n engel wees,” verseker hy haar ernstig.

“Met rooi hare?” vra sy tergend.

“Die enigste soort wat ek ken.”

“En hoeveel rooikopengeltjies ken jy altemit?”

“Net die een, maar dis genoeg om my oortuiging te staaf.” ’n Hoesbui


onderbreek hom en hy druk sy vuis voor sy mond.

Sy staan dadelik op, stap nader en skink ’n glas water uit die kraffie. Sy help
hom orent met haar arm agter sy skouers en hou die glas voor sy lippe.

Hulle gesigte is naby mekaar en sy merk die onnutsige vonkeling in sy oë.

Dit laat haar besef dat hy nie meer so swak is dat hy haar ondersteuning
nodig het nie, maar sy trek nie terug nie. Dis prikkelend aangenaam om so
naby hom te wees dat sy asem warm teen haar wang blaas. Sy wysvinger
streel oor haar gesig en laat ’n stringetjie hare daaroor gly.

“Al sien ek nooit weer in my ganse bestaan ’n ander engel nie, sal ek steeds
glo dat my rooikop die beste engel van almal is.”

“En as hierdie engel skielik twee horinkies en ’n pylstert ontwikkel? Hoe


groot gaan jy dan skrik?”
“Nooit gesien nie! Sy sal die mooiste vroumensduiweltjie wees wat ek ooit
teëgekom het.”

Die bekoring van hulle intieme geskerts sluit die wêreld buite hulle kring van
samesyn uit sodat hulle nie opmerk dat iemand die slaapkamer binnestap nie.
Andries staar onthuts na die toneeltjie en weet hy is besig om Tanya te
verloor. Was dit iemand anders, iemand soos Riek Lotter, sou hy dit aanvaar

het. Riek is een van hulle mense en hy sal haar nie wegneem uit die wildernis
waarvoor sy so lief is nie.

Nou is dit egter ’n naamlose vreemdeling op wie sy haar hart verloor.

Iemand wat onder verdenking staan dat hy ’n voortvlugtige moordenaar is. ’n


Sadis wat mooi jong meisies met duiwelse sjarme na hom toe aanlok, met
hulle speel en mors tot hy moeg is vir hulle en hulle dan skend en vertrap tot
hulle onherkenbaar is voor hy hulle vermoor. Hy durf nie stilsit en toekyk
hoe sy kosbare kleindogter die monster ten prooi val nie.

“Oupa?” Tanya sien haar oupa se grimmige gesig in die spieël weerkaats en
kom vinnig orent. Sy mors water op Bosman se kaal bors en wil dit afvee,
maar die driftigheid in haar oupa se blou oë laat haar wegtree van die siekbed
af. “Bosman het gehoes,” verduidelik sy lamlendig. “Ek het vir hom water
gegee.”

Andries kyk na haar blosende gesig en sien die skuld in haar sprekende blou
oë wat haar nie toelaat om vir hom te lieg nie. Hy knik sy kop niksseggend.
“Goed. Ounooi, die klere wat jy gewas het, is droog en ek het dit uit die
tuimeldroër gehaal. Hierdie klere wat Boetman aangehad het toe ons hom
gekry het, lyk heel respektabel. Jy moet kyk of dit gestryk moet word.”

Bosman sit belangstellend regop. Hy steek sy hand uit om dit te vat. “Laat ek
sien, oom.” Hy is gretig om te kyk of hy dit nie dalk herken nie. Hy kyk na
die etikette van die donkerblou sweetpak, maar dis bekende handelsname.

Dis eers toe hy die groen T-hemp vat dat hy die letters op die naamstrokie
sien. Dadelik kyk hy na die twee ander kledingstukke en noudat hy weet
waarna om op te let, sien hy dat die twee letters H. H. ook daarop aangebring
is. Omdat die handelsname groter is, het hy dit nie dadelik raakgesien het nie.

Fronsend wys hy dit vir Andries en Tanya.

Tanya kyk sonder veel belangstelling na die twee letters voor dit deur haar
skok. H. H. Hendrik Human?

SEWE

Bosman staar nuuskierig na die twee letters wat langs mekaar pryk. “H. H.,”

mompel hy. “Hans, Hendrik, Henk, Herman,” spreek hy die name mymerend
hardop uit. “Hamman, Harmse, Hendriks.” Hy skud sy kop verward. “Dit lui
nie ’n klokkie nie.”

Tanya kyk op in haar oupa se geslote gesig en in sy oë sien sy wat hy dink.

Hendrik Human. Liggies skud sy haar kop en haar blik pleit by hom om nie
sy vermoede hardop uit te spreek nie. Asseblief, Oupa? smeek sy
woordeloos. Dit kan nie Hendrik Human wees nie, kan dit?

“Dit sê in elk geval nie veel nie,” gee Andries toe aan sy kleindogter se stille
pleidooi. “Jy kon die hemp by iemand present gekry het. Of dit kon op

’n manier uitgeruil geraak het.”

“Dis nes Oupa daar sê,” beaam Tanya gretig. “Ek gaan die sweetpak ophang
sodat jy nie in die versoeking kan kom om op te staan nie. Môre kan jy
aantrek en in die kamer of huis rondloop, maar beslis nie weer buite soos
vanoggend nie. Kyk wat het jou braafheid veroorsaak. Jy is nog ver van
gesond af.”

“Ek is oukei,” begin hy beswaar aanteken, maar word weer eens deur ’n
hoesbui oorval. Sy hou die glas water na hom uit en hy neem ’n slukkie voor
hy teen die kussings terugsak. “Ekskuus dat ek so ’n oorlas is,” prewel hy
met toe oë, uitgeput ná die hernude hoesbui. “Ek belowe ek sal my stil
gedra.”

Tanya tel die sweetpak op om dit op te hang en wil die T-hemp by hom vat,
maar hy hou dit vas asof hy onwillig is om dit af te staan.

“Ek dink jy moet die hemp aantrek, Boetman. Jy moet jou bors warm hou,”
beveel Andries kras. Hy vermy Tanya se blik omdat sy sal sien dat sy
besorgdheid nie eerlik is nie. Dis nie ’n goeie ding dat Tanya so teen die fris
jong man se naakte bolyf vaskyk nie. Sy kom nie dikwels in noue kontak met
jong mans nie en hy kan sien hoe die vreemdeling haar vroulike
belangstelling prikkel. “Wag, ek help jou,” bied hy aan. Hy tree tussen Tanya
en Bosman in. “Ounooi, gaan kyk ’n bietjie wat in die kombuis aangaan.

Ruik ek nie iets brand nie?”

Behendig en nog redelik sterk vir sy ouderdom, lig Andries Bosman se bolyf
op en trek die groen T-hemp oor sy kop. Toe dit effens styf oor sy kop gaan,
pluk hy dit onsag na onder. “Eina,” laat Bosman hoor toe dit oor die wond
agter sy oor skuif.

“As jy my kleindogter seermaak of haar hart breek, skiet ek jou sonder om

’n oog te knip dood,” dreig Andries afgemete.

Bosman se mond val oop van verbasing. “Oom?” Dan sink die dreigement in.
Dadelik is hy smoorkwaad. “Ek kan nie glo dat oom so iets van my kan dink
nie. Watter soort monster dink oom is ek?”

“Jy het nie ’n idee nie, Boetman, jy het nie ’n idee nie.”

Sonder ’n verdere woord stap Andries uit en Bosman staar hom ontsteld
agterna. Sy binneste bewe. Hy steek dit vir Tanya weg, maar is inderdaad
baie sieker en swakker as wat hulle dink. Dit het hy deeglik besef nadat hy
vanoggend die wilde perd opgesaal en koers gekies het sonder om hemp of
skoene aan te trek met net die kombers om sy kaal lyf. Eintlik was hy nie
heeltemal homself nie, en half ylend van koors wou hy wegvlug van die
verwarrende nagmerries wat hom teister wanneer hy sy oë toemaak.
“Waar is jou oupa?”

“Noudat die son deurkom en dit lyk asof die ergste storms verby is, kon ek
hom nie langer keer om te gaan kyk hoeveel skade aangerig is nie.”

“Praat jy van die plantasies?”

“Nee. Vir my oupa is die bosreuse en die voëls wat daarin bly van baie meer
waarde. Self bedryf my oupa nie meer enige plantasies nie en hy het die
meeste bewerkbare grond verkoop en verhuur die res uit. Ek is nou terug.”

Vinnig stap sy uit en gaan haal ’n paar van haar oupa se mees onlangse boeke
oor voëls en hoe hy hulle gedrag en broeitydperke bestudeer en ondervind
het. Dis meer as blote studies met foto’s en inligting en word des te meer
deur voëlkykers met werklike begeestering geniet. Elke broeipaar het hy
bestudeer en dag tot dag kommentaar gelewer tot die eiers uitgebroei en die
ouers die kleintjies begin voer het. Dan volg hy weer die nuwelinge se
groeiproses om te sien of hulle enige afwykings toon – van kuikens af tot
hulle die nes verlaat, volwasse word en self afpaar om voort te bou op die
oeroue instink wat deel van hulle lewenspatroon is.

“Mensig,” spreek Bosman sy verrassing uit. “Wie sou dit nou kon dink?

Ek is seker ek het al van professor Brink gehoor, maar het nie vir ’n oomblik
vermoed dat jou oupa die man is nie.” Hy peins ’n paar minute diep, maar
skud dan sy kop. “Ek wens ek kan my geheue herwin. Dit voel so blêddie
stupid om niks van jouself te onthou nie!” Hy klap homself vererg teen die
kop. “Jou oupa is ’n formidabele man. Hy was seker baie kwaai,” voeg hy
nadenkend by terwyl hy na die foto van ’n jonger weergawe van die ou man
kyk.

“Toe hy jonger was, was almal in die omtrek skrikkerig vir hom,” beaam sy
laggend. “Eintlik is hy ’n softy met ’n malvalekkerhart, maar met sy rooi hare
en baard het hy almal die skrik op die lyf gejaag. Hy het altyd gedreig dat hy
nie sal huiwer om te skiet as kêrels hulle voete op ons grond sit nie.

Dit het die meeste voornemende jong mans afgeskrik, en as ek nie meestal in
koshuise gebly het nie, sou ek ’n baie eensame jeug gehad het.”
“Dit lyk nie asof dit jou veel gehinder het nie.”

“Nee wat, ek is nie baie sosiaal nie en tevrede met my eie geselskap.”

Kuiltjies duik in haar wange terwyl sy glimlag. “Buitendien het ek geglo as


enige voornemende kêrel hom deur Oupa se dreigement laat afskrik, hy nie
murg in sy pype het nie en dus nie werd was om spesiaal behandel te word
nie. Is jy lus om op te staan?”

Hy knik instemmend en sy gaan haal sy klere. Sy vermy die twee hoofletters


op die naamstrokies en besluit om nie die dag te bederf deur daaroor te tob
nie. Bosman oortuig haar dat hy self kan aantrek en sy stap met die skinkbord
waarop sy vir hom sy ontbyt gebring het uit om hom privaatheid te gee. Sy
voel tevrede dat hy ’n stewige ontbyt inhet en dat hy sy kragte vinnig behoort
te herwin. Sy is nog besig om die kombuis op te ruim toe hy by haar aansluit.

Die groen van die T-hemp is byna dieselfde kleur as sy oë wat onder die
onnet donker kuif op sy voorkop op haar rus. Daar is ’n vreemde boodskap in
hulle dieptes wat haar ontsenu en die bloed na haar wange laat styg.

Senuagtig kyk sy weg, maar sy bly bewus van die teenwoordigheid van sy
rysige gestalte wat lyk asof hy die groot kombuis vul. Byna glip die koppie
uit haar seperige hande en sy byt ergerlik op haar onderlip. Sy durf nie toelaat
dat hierdie vreemdeling haar so intens beïnvloed nie.

“Sit gerus, dan skink ek vir jou nog koffie,” bied sy aan. “As jy nog wil hê,
natuurlik. Oupa drink baie koffie en daarom het ek gedink jy wil ook nog hê.

Ek sal verstaan as jy nie lus is nie. Jy moet net sê as jy tee verkies.”

Hy sit rustig met ’n skewe glimlag terwyl hy haar dophou. Sy weet sy babbel
soos ’n bakvissie, maar skielik is sy skaam omdat haar hare in slordige slierte
uit die poniestert losgegaan het en teen haar wange krul.

Daarby het sy geen grimering aan nie en die denimkniebroek by die wit
toppie is al verbleik van baie was en dra.

“Niks meer vir my nie, dankie. Sal jy netnou as jy tyd het vir my julle huis
wys? Ek kan nie die uitleg uitgepluis kry nie.”

“As jy kon, sou jy die eerste een gewees het,” ontspan sy doelbewus. Sy vee
met ’n nat hand die hare agter haar ore in en laat ’n skuimstreep op haar
wang. “Ek wonder of my oupa nie soms self in die doolhof verdwaal nie. Dit
was natuurlik ’n wonderlike plek om in groot te word. Al my vriendinne wat
ek vakansies van die koshuis af saamgebring het, het my beny.” Sy trek die
wasbak se prop uit en hang die nat vadoeke op. “Gereed? Jy moet sê as jy
moeg is.”

“Ek sal,” gee hy toe, hoewel dit vir hom voel asof hy tot aan die einde van die
wêreld agter haar kan aanstap en na haar skraal postuur met die ferm kurwes
en die lang bene kan kyk. Sy is korter as hy en hy kan aan haar haarwortels
sien dat die vlamrooi haar natuurlike haarkleur is. Seker dié dat haar vel so
besonder wit en haar wange blosend is.

“Jy is baie lief vir jou oupa,” merk hy op.

In elke tweede sin verwys sy na haar oupa en haar blou oë blink van trots
terwyl sy hom al haar oupa se toekennings wys wat hy deur die jare ontvang
het. Hulle is in die studeerkamer en hy kyk met verwondering na alles wat die
ou man in die loop van ’n vol lewe bereik en versamel het. Hy word verras
deur die boekery wat selfs van die modernste skrywers se werke insluit. Hy
dag die ou professor is ’n verstokte voëlkyker by wie die lewe ongesiens
verbygaan. Nou moet hy beslis sy mening wysig.

“Jy kan gerus van die boeke vat om te lees,” moedig sy hom aan. “Oupa is
baie heilig op hulle, maar aangesien jy hier by ons is, kan dit tog nie wegraak
nie.”

“Dankie.” Nogtans neem hy hom voor dat hy eers Andries se toestemming


sal vra voor hy ’n enkele boek uit die rak haal. Afgesien van die oom se
dreigement die vorige dag, het hy respek vir ’n ander se privaat eiendom en
sal hy nie eiegeregtig optree nie.

“Nou wil ek jou my ateljee gaan wys,” besluit sy en stap weer eens voor

hom uit deur ’n gang wat meer soos ’n verbindingstonnel van die een deel
van die huis na die ander kronkel.

Hy is verstom oor die vindingrykheid waarmee die mure om en oor die


reuserotsblokke gebou is. In ’n stadium is die deurgang tussen twee
reuseklippe so smal dat ’n baie groot persoon nie maklik tussen die mure sal
pas nie. Hy steek vas en skud sy kop omdat hy nie weet of hy sal kan
deurskuur nie, selfs al draai hy dwars.

Tanya lag opgewek. “Engtevrees?” verneem sy tergend. “Toemaar, jy sal pas.


Mamma Sofia is baie lywiger as die meeste mense wat ek ken, maar jy moet
sien hoe wikkel sy haar hier deur. Dis natuurlik net as sy haastig is.

Anders vat sy die ompad. Ek sal jou wys. As kind het ek my altyd verbeel dis
die geheime gang na my speelkamer. Oupa het dit spesiaal gebou om my
verbeelding aan te wakker nadat hy die slaapkamer in ’n speelkamer omskep
het.” Dat dit ’n poging was om haar besig te hou ná haar ouers se dood, vertel
sy nie. “Dit was voor ek die vertrek later as ateljee begin gebruik het.”

“Geen wonder jy skryf sprokies nie,” merk hy later op terwyl hy met een van
haar kinderboeke in sy hand staan. “Doen jy werklik al die sketse self?

Mensig, Tanya, dis klein kunswerkies wat jy in die boekies wegsteek. Praat
van jou lig onder ’n emmer versteek.”

“Baie mense het al voorgestel dat ek my heeltyds op skilder moet toelê, of die
skryf van romans, maar dis nou eenmaal nie my genre nie. Ek en my sprokies
is al sinoniem.” Sy vat die boekie uit sy hande en sit dit ongeërg op

’n tafeltjie neer. “Hoe hou jy van my uitsig?”

Sy skuif die glasdeure oop en meteens is hulle deel van die wildernis wat aan
hulle voete uitstrek so ver as wat die oog kan sien. Wolke skuif voor die son
verby en bedek die blink boomtoppe met wisselende donker skaduwees en
sonskynkolle. Ver weg is daar ’n glimp van die blink rivierwater sigbaar voor
dit om ’n draai verdwyn, en toe die son weer eens helder skyn, kan hulle met
die blote oog die blou streep van die wye oseaan op die horison sien.

“Dis ongelooflik! Besef jy hoe bevoorreg jy is met ’n uitsig soos dié? Geen
wonder oom Andries bewaak hierdie stuk ongerepte natuur met ’n ysterhand
nie. As ontwikkelaars ’n voet in die deur kry, bly hier niks van oor nie. Dis
ideaal vir nog ’n gholflandgoed omring deur luukse-rykmanswonings.”

“Oupa sal nooit verkoop nie, en as sy enigste erfgenaam sal ek dit met
dieselfde passie as hy bewaar. Dis ons eie klein paradys en al die skatte ter
wêreld kan dit nie vervang nie.”

Met bewondering kyk hy af na die vuur van oortuiging in haar blou oë, die
besliste trek om haar andersins sagte lippe en die erns op haar pragtige gesig.

Drif laat selfs vonkies uit die bos rooi hare skiet. Sy hart verteder. Mag daar
nooit ’n dag kom dat haar wêreld om haar intuimel en haar paradys van sy
maagdelike skoonheid gestroop word nie.

Sy word bewus van die intensiteit van sy blik, die teerheid in sy oë en die
amperglimlag om sy mondhoeke en haar hart begin verward fladder. Die
skoonheid aan hulle voete en die varsheid van die skoon lug ná die reën, raak
verlore terwyl hulle op ’n ander sfeer na mekaar uitreik en hunkerend na
eenwording smag. Hulle tree nader aan mekaar sodat sy hande om haar gesig
kelk en sy in verwondering ervaar dat haar lippe tril in afwagting op die
aanraking van syne. Die sagte vlam wat uit een vonkie ontstaan het, brand al
hoër tot dit in ’n stuwende vuur verander.

Net voor hulle lippe ontmoet, verbreek ’n harde fluit die betowering. Hy is
traag om haar te laat gaan, maar toe sy haar kop vooroor laat sak, val sy
hande slap langs sy sye. Steeds bly hulle sterk bewus van mekaar en dit kos
al haar wilskrag om uit die hitte van sy sterk liggaam so naby hare weg te
breek. Hunkering na die krag van sy arms om haar waarmee hy haar styf teen
hom sal vastrek sodat hulle harte saam sal klop, laat haar ledemate pyn van
begeerte. Net om een maal deur hom vasgehou te word en deel van hom as
mens – as man – te word, is ’n verlange wat haar van alles om haar laat
vergeet.

“Wie het gefluit?” vra hy skor nadat hy gesluk het om sy heesheid te


verbloem.

“My oupa,” fluister sy. Sy wil op haar oupa se fluit antwoord, maar haar lippe
is stram en haar mond droog. Met moeite ruk sy haar reg. “Kom ons gaan
hoor wat hy wil hê.”

“Gaan jy nie die deur toemaak nie?” keer hy toe sy wegdraai.

“Nee wat, hier is nie skelms nie.” Skielik onthou sy van die voortvlugtige
misdadiger wat iewers in die omtrek geskuil het. Volgens Riek vermoed hulle
hy is terug stad toe, maar kan sy seker wees? Vererg pluk sy die skuifdeur toe
en sluit dit. Die wonder van die oomblikke naby Bosman is verlore en sy voel
asof sy kan huil weens die verlies daarvan.

Hy wil terugstap na die smal gangetjie waarmee hulle die ateljee binnegekom
het, maar sy skud haar kop. Sy lei hom by ’n ander deur uit met

’n breër gang langs by verskeie deure verby. Terloops kyk hy by die oop

deure in en sien die slaapkamer en badkamer wat hy aanneem hare is omdat


die kleurskema sagte pastelkleure is.

Soos sy verduidelik het, is dit ’n ompad wat hulle verby die studeerkamer en
deur die sit- en eetkamer voer voor hulle die kombuis bereik waar Andries
besig is om vir hom koffie te skink. Die kort gangetjie het haar ateljee direk
met die studeerkamer en daarvandaan met die kombuis verbind. Dit verwar
hom. Iewers het hulle ’n ander draai geloop waarop hy nie bedag was nie.

Die gastekamer waar hy tuisgaan, is immers ook naby die kombuis en hy het
dit nie met die kom hierheen opgemerk nie.

“Het Oupa my gesoek?”

Andries frons kwaai in die rigting van sy kleindogter. Waar was sy en die
vreemdeling? Haar lieftallige glimlag laat sy hart vermurwe. Sy is al vyf en
twintig jaar oud en sal weet hoe om haar te handhaaf. Nogtans is dit moeilik
om te aanvaar dat sy ’n onafhanklike volwasse vrou is en dat daar ’n tyd sal
kom dat hy haar met die man van haar hart sal moet deel. Dat hy nie meer die
belangrikste persoon in haar lewe sal wees nie.

“Die rivier se vlak het gedaal. Die drif sal al bruikbaar wees sodat ons dorp
toe kan ry.” Hy kyk nou reguit na die vreemdeling. “Wat is jou planne
vorentoe, Boetman?”

“Oupa …” begin sy kapsie maak, maar Bosman val haar in die rede. “Ek
weet regtig nie, oom.” Sy blik is eerlik en Andries glo hom toe hy vervolg:

“Ek het nog niks beplan nie. Ek weet nie waar om te begin nie.”

“Oupa …” begin Tanya nog eens, maar word nie toegelaat om haar sê te sê
nie. Nou is dit haar oupa wat bo-oor haar kop praat. “As jy langer wil bly, sal
ons vir jou moet klere kry. Myne pas jou nie.”

Bosman haal sy skouers moedeloos op. “Oom, hoe gemaak? Ek het nie ’n
sent by my nie. Ek weet nie of ek ooit geld het nie.”

“Sal julle na my luister!” vererg sy haar vir die twee mans wat maak asof sy
nie teenwoordig is nie. “Moet my vervlaks nie ignoreer asof ek ’n kind is nie.
Oupa, Bosman is nog heeltemal te swak om nou al dorp toe te gaan.”

Andries knik. “Jy ken mos nou sy grootte en kan ’n paar kledingstukke gaan
kry.”

Bosman word rooi van verleentheid. “Ek sal mettertyd elke sent aan julle
terugbetaal.” Hy stoot sy vingers radeloos deur sy hare. “Ek wens dit was nie
vir my nodig om so afhanklik van julle te wees nie. Dalk kan ek saamry …”

“Nee!” val Tanya en haar oupa hom gelyktydig in die rede.


“Dit sal nie goed wees dat jy jou gesig op die dorp wys nie,” keer Andries
kortaf terwyl Tanya verduidelik: “Die rit sal jou uitput. Die grondpad sal vol
gate en dongas wees en in jou toestand kan jy ’n terugslag kry.”

“Hoe gaan ek agterkom wie ek is as ek pal hier bly? Ek wil nie ondankbaar
klink nie, maar julle is so afgesonder dat niemand hier na my sal kom soek
nie.”

“Moenie glo nie,” skimp Andries. Tanya frons berispend in sy rigting. Hy


verander van taktiek. “Met die rivier wat afgeloop het, sal die telefoonlyne
binnekort herstel word en dan kan ons op die internet kyk of daar na jou
gesoek word.”

Hy knik verras. Hoekom verbaas die Brinks hom telkens? Hulle is nie
werklik so afgesny van die samelewing as wat hulle voorgee nie. “As ek met
vakansie is, sal niemand my al vermis het nie,” opper hy sy twyfel.

“Moontlik,” gee Andries toe. “Nogtans kan ons ’n foto van jou plaas en vra
dat as iemand jou herken, hulle ons op ons webtuiste moet kontak. Tanya het

’n goeie digitale kamera en kan jou afneem. Dalk sien een van jou kollegas of
vriende die foto. Dalk soek jou familie al na jou. Jou vrou en kinders, of jou
ouers. Wie weet?”

“Ek kan by die polisiekantoor gaan navraag doen.”

“Nee wat, ons sal nie die besige mense daarmee gaan pla nie,” keer Andries
toe hy die ontsetting op Tanya se gesig sien. “Miskien later, as ons soektog
niks oplewer nie.”

Ontsteld vlug Tanya by die agterdeur uit en slaan doelloos ’n rigting in. Sy
gaan Bosman verloor voor sy die kans gekry het om vas te stel of hy vir haar
ook lief is soos sy vir hom. Sy het nog nie eens aan die moontlikheid gedink
dat daar ’n vrou met of sonder kinders op sy tuiskoms wag nie. Aan die
moontlikheid dat hy dalk die voortvlugtige misdadiger is, wil sy nie eens dink
nie.
AGT

“Het oom ’n vloerplan van julle huis?” vra Bosman vir haar oupa toe Tanya
by hulle in die studeerkamer aansluit.

“Nee, aangesien ons buite die munisipale gebied val, was dit nie nodig om

’n argitek in te kry en om planne amptelik vir goedkeuring voor te lê nie,”

verduidelik Andries breedvoerig. “Ek het die huis met verloop van tyd stuk-
stuk beplan en met die hulp van ’n paar werkers gebou en verander soos die
gier my gepak het.”

“Oom kan dus die kennis van bedrading, riolering en die aanwending van
boumateriale by al oom se ander bekwaamhede voeg.”

Bosman lyk beïndruk sodat Andries hom nie vererg en afjak nie. Daar is
respek in die groen oë wat hom belangstellend dophou. “Geleer uit ervaring,”

spog en spot Andries gelyktydig. Hy haal ’n selfhelpboek uit ’n rak en hou dit
na die jonger man uit. “As ’n mens kan lees en logika het sodat jy prakties
kan aanwend wat jy voor jou op papier sien, kan jy enigiets vermag.”

Hy kyk op na sy kleindogter wat na hulle luister en kan nie help om haar


been te trek nie. “Soos met ’n koekresep. As dit sê een teelepel bakpoeier,
dan gebruik jy die aanbevole hoeveelheid en probeer nie slim wees deur dit
met katastrofiese gevolge te verdubbel nie.”

Tanya bloos verleë. “Sies, Oupa, was dit nou nodig om my skandes so blatant
uit te blaker? Enige mens kan ’n fout maak. Die koek was nie heeltemal ’n
flop nie, al het dit oor die rand van die pan gerys. As ek reg onthou, het Oupa
nog gesê dit was lekker.”

“Wat ’n mens nie alles ter wille van vrede en harmonie sal kwytraak nie!

Toemaar, ek terg sommer, Ounooi. Is jy op pad? Jy moet versigtig wees,


hoor? Vandat die laagwaterbrug gebou is, word die drif net deur Riek en sy
avontuurlustige gaste met hulle viertrekke gebruik en die pad is baie sleg.

Moenie kanse waag nie.”

“Ek sal mooi ry, Oupsie. Tot siens.” Sy soen haar oupa liefderik op sy wang.
“Gedra julle.” Sy aarsel voor sy sagter byvoeg: “Moet die arme Bosman nie
te veel vermoei nie. Hy is nog nie so sterk soos wat hy voorgee

om te wees nie.”

Bosman hoor wat sy sê, maar laat dit nie blyk nie. Hy kyk bewonderend na
die pragtige meisie se blinkrooi hare wat in sagte krulle haar lieflike gelaat
omring, en die kommer in haar mooi blou oë laat hom teer glimlag. Hy kan
nie onthou of hy al ooit ’n mooier meisie ontmoet het nie, maar hy weet vir
seker dat geen ander vrou hom so diep geraak het soos sy nie. As hy tog net
kan onthou wie hy is en of hy vry is om haar lief te hê. Selfs al verloor hy sy
hart, mag hy dit nie wys nie omdat hy haar nie wil seermaak die dag as hy
dalk agterkom dat hy reeds trou aan ’n ander vrou belowe het nie.

Tanya se gedagtes is steeds by haar oupa en Bosman in die studeerkamer


terwyl sy ry. Sy is bly dat Bosman opreg belang stel in die huis wat haar oupa
eiehandig gebou het. Dit was vir haar ’n aangename verrassing dat hy werklik

’n belangstelling in argitektuur toon en blykbaar oor praktiese kennis beskik.

Dit bied hulle ’n gedeelde belangstelling om oor te gesels.

Sy kan egter nie lank aan hulle dink nie, die pad is nog slegter ná die vorige
paar dae se storms as wat sy verwag het en dit verg konsentrasie om vir die
dongas en diep spoelgate uit te swaai en terselfdertyd nie in die modder langs
die tweespoorpad vas te val nie. Ai, as die laagwaterbrug nie weggespoel het
nie, kon sy met die breër gruispad langs gery het.

Terwyl sy met haar inkopies op die dorp besig is, loop sy verskeie bekendes
raak. Almal verneem belangstellend hoe die storms hulle geraak het en
trakteer haar op staaltjies van persoonlike ontberings weens die oorstromings,
dakke wat afgewaai het en bome wat ontwortel is sodat die strate geblokkeer
was. Dit laat haar dankbaar besef dat sy en haar oupa gelukkig was om so lig
daarvan af te gekom het. Afgesien van die kragonderbreking en die
telefoonlyn wat nog nie herstel is nie, kon hulle sonder veel ongerief oorleef.
Sy loop ook vir Riek raak wat boumateriaal by die koöperasie kom oplaai het
en gaan drink saam met hom koffie.

“Het julle Ammie al opgespoor?” wil sy dadelik weet. As Riek en mamma


Sofia maar kan weet hoe sy deur selfverwyt geteister word omdat sy dit
verswyg dat hulle gesien het hoe die seun oor die rivier probeer kom het!

“Gelukkig, ja,” stel hy haar gerus. “Iemand het hom halfdood en gekneus op
die strand aangetref waar hy tussen die rotse skuiling gesoek het.”

Sy leun gretig vorentoe. “Wat het hy gesê? Waar was hy? Is hy ernstig

beseer? Mamma Sofia was seker siek van bekommernis.”

Riek frons peinsend. “Dit lyk nie asof hy juis ernstige beserings soos breuke
opgedoen het nie. Blykbaar is hy deur die vloedwater oorval, maar het
wonder bo wonder kopgehou, aan ’n tak vasgeklou en is later by die lagune
se inloop in die see in vlak water uitgespoel. Dit was gelukkig nie hooggety
nie anders is hy deur die sterk stroom oor die duine gelig en het hy in die see
beland. Hy praat onsamehangend en ek kan nie bra uitmaak hoe hy in die
rivier beland het nie.”

“Hoe bedoel jy? Yl hy? Jy het dan gesê hy is nie erg beseer nie.”

“Dit moet die skrik en die ontbering wees wat sy verstand meer as gewoonlik
aangetas het. Hy bly vertel dat hy ’n man gesien het wat nie heeltemal dood
was nie. Ek gebruik nou sy eie woorde.” Hy glimlag gemeensaam vir Tanya
en vou sy hand oor hare op die tafelblad. “Komaan, moenie jou Ammie se
ongesteldheid so aantrek nie. Hy is mos maar meestal deurmekaar en
menssku.”

“Nie wanneer hy by ons is nie, Riek. My oupa prys altyd sy kennis van die
veld en hoe Ammie hom met sy navorsing help.”

“Jy kan nie vir oom Andries met ander mense vergelyk nie,” merk hy op en
toe dit lyk asof sy haar wil vererg, vervolg hy haastig: “Ek bedoel dit nie sleg
nie, meisiekind! Jou oupa is uniek, jy kan nie stry nie. Hy gesels met die
bome en die voëls, hoekom dan nie ook met Ammie nie? Kom nou, moenie
so gou op jou perdjie klim nie, ek bedoel dit goed. Jy weet immers dat ek
baie erg oor oom Andries is.” En sy kleindogter ook, dink hy.

“Ja, toemaar, jy is reg, maar ek wil meer weet van die man na wie hy verwys
het. Waar is die man nou? Was … was dit nie dalk die … moordenaar na wie
die polisie gesoek het nie?”

Riek skud sy blonde kop. “Wie die man was, as daar ooit iemand was, sal ons
seker nooit weet nie. Ek kan jou darem gerusstel dat dit nie die ontsnapte
misdadiger was nie. Hy is intussen aangekeer en is veilig agter tralies waar
hy hoort.”

Hierdie nuus laat haar kop van verligting draai. “Is jy seker?” soek sy
versekering dat haar ore haar nie bedrieg het nie. Skielik kan sy nie ophou
glimlag nie. Die bloed bruis deur haar are en sy voel die hitte in haar wange.

Terloops sien sy haar beeld in die spieël teen die een muur en lyk vir haarself
soos ’n verliefde tiener met skitterblink oë en ’n gloeiende gesig.

“Jip, ek is. Dit was in die koerante en het wye dekking op die televisie- en

radionuus gehad. Dis beslis hy.”

Impulsief tel hy haar hand op en soen haar vingers een vir een. Stom van
vreugde laat sy dit toe. Sy sou hom selfs voor al die mense in die koffiehuis
omhels het as hulle nie weerskante van ’n tafeltjie gesit het nie. Opeens is sy
haastig om te ry, maar hulle koppies is nog nie leeg nie en sy kan nie so
openlik ongeskik wees deur sommer net te loop nie.

“Ek is so bly Ammie is gevind,” probeer sy natuurlik optree. “Nou is mamma


Sofia van haar ergste kommer verlos.”

“Moenie glo nie,” skerts hy. “Dit lyk my sy het haar meer oor jou en oom
Andries bekommer as oor daai seun van haar. Sy wil elke dag weet of dit al
vir haar veilig sal wees om terug te gaan werk toe. Ek het haar betyds gekeer
toe sy iemand wou betaal om haar met ’n skuit oor die vol rivier te roei.
Blykbaar glo sy julle gaan krepeer van honger en ellende sonder haar wat vir
julle sorg.”

Tanya se tintelende lag laat mense geamuseerd in haar rigting kyk. “Vertel
haar asseblief dat ons oukei is. Ek en Oupa maak om die beurt kos en ons het
nog nie een aand met leë mae gaan slaap nie. Haai, daarvan gepraat, ek beter
in die pad val. Gelukkig is die drif rybaar, maar die res van die pad is
beroerd. Was dit nie vir Oupa se Jeep nie, was ons regtig gestrand.”

Haastig staan sy op en begin summier koers kies tussen die tafels deur.

Riek haal haar in, vergesel haar tot buite, vang haar onverhoeds in sy arms en
soen haar deeglik en met oorgawe. Onthuts worstel sy om los te kom en stoot
hom weg. Haar oë blits en haar wange is rooi, maar hy skryf dit aan
verleentheid voor al die nuuskieriges in die besige straat toe wat na hulle kyk,
en lag haar uit. Dis hoog tyd dat sy en almal wat hulle ken, begin aanvaar dat
hulle twee vir mekaar bestem is. Hy het lank genoeg gesloer en sal ’n begin
moet maak om sy kleim af te steek voor iemand anders hom dalk voorspring.

Nie dat hy juis daaroor bekommerd is nie. Vol selfvertroue glo hy dat sy soos
hy voel en dit nog net nie besef nie.

Voor sy om die hoek ry, kyk sy in die truspieëltjie en sien dat hy haar steeds
laggend met sy hande in sy sye agternastaar. Verward raak sy aan haar lippe.
Sy het die soen tog ’n bietjie prikkelend gevind, hoewel sy weet dat sy nooit
meer as vriendskap vir hom sal voel nie. Bosman is die man van haar drome.
Die sprokiesprins wat onverwags uit die storm haar lewe binnegestap en haar
hart in besit geneem het. Kort voor lank sal sy dit onomwonde by die
aantreklike Riek ook moet tuisbring sodat hy haar nie later kan verwyt dat sy

hom moedswillig aan ’n lyntjie gehou het nie.

Oral op die dorp en langs die pad is die skade sigbaar wat deur die stormwind
en gietende reën veroorsaak is. Sy het koerante gekoop om vir haar oupa te
vat aangesien hy sal wil sien hoe erg die verwoesting was. Toe sy nou die dag
die klammigheid en die drukkende atmosfeer aangevoel het, sou sy nie kon
dink dit sou tot soveel stormgeweld lei nie. Hoe lank gelede was dit? Nie
eens ’n volle week nie. Tog het daar soveel gebeur dat dit soos
’n leeftyd voel.

Terug by die huis dra sy die hordes pakkies kombuis toe. Die huis is stil.

Ongeduldig wonder sy waar haar oupa en Bosman is dat hulle nie kom hand
bysit nie. Het hulle gaan rondloop? Sy het haar oupa mooi gevra om Bosman
nie vandag al te veel te vermoei nie, maar haar oupa is so verstrooid wanneer
hy verdiep raak in sy stokperdjie dat hy waarskynlik heeltemal daarvan
vergeet het. Terstond besluit sy om hom te laat weet dat sy tuis is voor sy
begin om die kruideniersware weg te pak. Sy tuit haar lippe en fluit hard. As
hy iewers in die omtrek is, sou hy dit gehoor het.

Andries stap inderdaad kort daarna die kombuis binne. “Hoekom raas jy so?”
berispe hy haar. “Boetman het van hoofpyn gekla, toe jaag ek hom pille in en
nou slaap hy.”

“Nie meer nie, oom,” laat Bosman goedig uit die rigting van die middeldeur
hoor. Hy rek hom lui uit en druk sy hand voor sy mond toe hy gaap. “Wat het
oom my gegee? Dit het ’n skop soos ’n muil.”

Tanya blik berouvol na hom en die aangename warmte wat haar hart vul en
die bloed deur haar are laat tintel, bring ’n blos na haar wange. Hy lyk
deurmekaar ná die kort slapie, maar tog ook prikkelend aantreklik met sy
onnet donker hare, skewe glimlag en ontspanne houding terwyl hy teen die
deurkosyn leun. Om haar gevoelens te verberg, hou sy ’n paar pakkies na
hom uit.

“Ekskuus dat ek jou in jou drome gesteur het. Jy kan netnou twee keer gaan
slaap om daarvoor op te maak,” skerts sy haar verleentheid weg. “Ek hoop
die klere pas. Ek het die prysetikette aangelos sodat ek dit kan gaan omruil
indien jy nie daarvan hou nie.”

“Dit sal seker nie help dat ek sê jy moes nie,” merk hy fatalisties op terwyl hy
die pakkies by haar vat. Die intense lig in sy groen oë terwyl hy na haar kyk,
is vir haar meer werd as enige dankbetuiging of vergoeding. “Ek sal dit
natuurlik mettertyd terugbetaal, hoewel ek nie kan belowe wanneer nie.”

Sy begeer dat hy sy hande op haar skouers moet sit en haar styf teen sy bors
vastrek. Hoekom moes hy juis op hierdie vreemde manier in haar lewe
gekom het?

“Moenie haastig wees nie.” Sou hy die skorheid in haar stem vertolk as dat sy
hom tot ’n flirtasie wil uitlok? wonder sy selfbewus toe hy skielik sy kop
wegdraai. Sy byt op haar tong en sukkel om haar selfbeheersing en kalmte te
herwin. “Ek het vir ons pizza saamgebring vir middagete. Ek hoop jy eet
pizza.”

“Ek sal binnekort agterkom. Ek gaan net dié in die kamer sit. Ek sal dit later
aanpas.”

Andries kyk van die koerant af op na die twee jongmense wat stokkerig met
mekaar gesels asof hulle vreemdelinge is. Wat het hy nie raakgesien terwyl
hy deur die koerant geblaai het nie?

Toe Bosman na sy kamer toe gaan, vertel Tanya haar oupa wat sy by Riek
gehoor het.

“Ek is bly Ammie is gekry,” antwoord Andries. “Het jy Riek vertel dat daar
toe wel ’n vreemde man was? Dat hy by ons aansterk?” Sy skud haar kop en
hy frons onbegrypend. “Hoekom nie? Jy weet mos nou dat hy nie die
misdadiger is wat hier in die wildernis geskuil het nie.”

“Ek weet, Oupa, maar dit het op daardie oomblik nie vir my reg gevoel om
met Riek oor Bosman te praat nie. Hoe gaan ek aan Riek verduidelik dat ons

’n man doelbewus versteek het omdat ons geglo het hy was miskien ’n
misdadiger, en dit terwyl die polisie na hom gesoek het? Sal dit ons nie na
medepligtiges of iets soortgelyks laat lyk nie?”

“Onsin. Ons kon weens die storms met niemand in aanraking kom nie.”

Andries kyk ondersoekend in sy kleindogter se ernstige blou oë. “Of voel jy


dat dit Riek sal jaloers maak omdat ’n ander man in ons huis is? Ek weet
Riek het ’n ogie op jou, maar het hy rede om bang te wees dat die
vreemdeling vir hom ’n bedreiging inhou?”
“Natuurlik nie, Oupa,” skerm sy dadelik ontstoke. “Daar is mos niks tussen
ons nie.”

“A,” sug Andries. “Julle jonges moet julle harte leer ken en besluit wat julle
in die lewe wil hê. Onthou net, Riek is nie iemand met wie se gevoelens jy
woer-woer kan speel nie.”

“Ek weet Oupa, en dis geensins my plan nie. Waar bly Bosman? Ek wil vir
ons die pizza in die mikrogolfoond opwarm. Ek gaan hom gou roep.”

Bosman is egter nie in sy kamer of elders in die huis nie. Skrik maak haar
knieë lam. Sou hy gehoor het toe sy en haar oupa sy verblyf by hulle
bespreek het? Het hy aanstoot geneem omdat hulle aanvanklik geglo het dat
hy ’n vermeende misdadiger is?

“Ek sal sy pizza vir hom bêre,” hou sy haar kamma onaangeraak deur sy
afwesigheid terwyl sy tafel dek. “Die storms was erg, nè, Oupa? Ek het nie
besef die water het so hoog opgestoot en soveel skade veroorsaak nie. Het
Oupa gesien dat daar ook foto’s van Riek se vakansieoord is? Hy het baie
meer skade gely as wat hy aanvanklik wou laat blyk.”

Andries kyk simpatiek na sy kleindogter wat soos ’n vink sonder ophou


kwetter. Haar oë blink van ongestorte trane. “Wat is fout, Ounooi?”

onderbreek hy haar spraaksaamheid. “Kom sit tog nou en vertel my wat jou
so ontstel het.”

Teësinnig gaan sy sit met haar vingers ineengestrengel. Sy kyk na haar hande
terwyl sy gesmoord verduidelik. “Bosman is weg, Oupa. Ek weet dit sommer.
Die pakkies staan onaangeraak op sy bed en hy het sy sweetpakbaadjie
aangetrek, hoewel dit nogal warm is. Oupa, Bosman het geloop sonder ’n
verduideliking of groet. Hy het ons seker gehoor praat en aanstoot geneem.
Ek gaan hom nooit weer sien nie.”

NEGE
Bosman sit op ’n boomwortel nie baie ver van die Brinks se huis af nie. Hy
kan tog ’n deel van die huis sien indien hy hom skuins draai, maar hy verkies
om na die nat grond, verrotte blare en die miere wat onvermoeid rondskarrel
tussen sy voete te kyk. Hy sit daar omdat hy helderheid moet kry voor hy kan
terugstap huis toe. Of sal dit beter wees om sommer ’n koers in te slaan weg
van die twee mense af om wie sy hele bestaan die afgelope paar dae draai?

Dadelik verskyn Tanya se lieflike gesig met die gevoelige lippe en die
sagtheid in haar helder blik voor sy geestesoog. Onwillekeurig glip ’n kreun
oor sy lippe asof hy letterlik gepynig word. Gaan hy haar verloor nog voor hy
haar in sy arms kon neem en haar vertel hoe innig hy oor haar voel? Of is die
voorreg en die hoop hom reeds ontneem met dié dat die ander man, Riek,
blykbaar haar geliefde is? Hy moes dit verwag het. Iemand so lieftallig en
mooi soos sy, sou nie onopgemerk gebly het nie. Selfs nie hier in die
wildernis waar sy en haar oupa skynbaar afgesonder van die buitewêreld bly
nie.

Dan is daar nog die wete dat hulle hom aanvanklik gewantrou en as ’n
misdadiger aangesien het. Hoe kon hulle dit van hom gedink het? Nou
verstaan hy waarom hulle hom weggehou het van die dorp af en nie kontak
met die polisie wou maak nie. Wou hulle hom beskerm, of was hulle bang
hulle sou van dwarsboming van die gereg aangekla word indien dit bekend
geword het dat hy deur hulle versorg is? Waarom het hulle hom dan in die
eerste plek huis toe gebring en by hom gewaak asof hulle werklik omgegee
het? Of het hulle hom juis opgepas sodat hy nie kon vlug nie?

Verward stoot hy sy vingers deur sy hare en streel versigtig oor die knop en
wond op sy agterkop, wat steeds pynlik is. Was hy besig om te vlug toe hy
geval het? Of nee, volgens Tanya se Riek het die polisie die misdadiger klaar
vasgetrek en is hy toegesluit. Hy was dus op die verkeerde tyd op die
verkeerde plek. Wat het hy hier kom doen? Sommer net voetgeslaan en toe
die ongeluk gehad? Hy sal by die plek moet uitkom sodat hy self kan sien
waar dit was en hoe dit gebeur het. Durf hy Tanya vra om hom daarheen te

neem? Tanya wat hom onbaatsugtig versorg het ten spyte van haar vermoede
dat hy ’n gewetenlose misdadiger is?

Durf hy enigiets van hulle verwag? Hoe kan hy van hulle goedhartigheid
gebruik maak terwyl hy nou weet dat hulle hom nooit regtig as iemand
beskou het met wie hulle ’n vriendskap wil aanknoop nie? So dikvellig is hy
sekerlik nie. Was dit wensdenkery wat hom laat glo het Tanya het seine na
hom uitgestuur dat sy meer vir hom voel as blote vriendskap?

Moenie ’n gek wees nie, raas hy met sy hoopvolle hart. Sy was net jammer
vir hom. Net soos oom Andries hom uit jammerte gehuisves het omdat hy
nêrens het om heen te gaan nie. Dit sal hulle vir enigiemand doen omdat dit
in hulle aard is en nie omdat hulle hom uitgesonder het as iemand wat hulle
as vriend wil hê nie.

Hy probeer analities sy hede en toekoms ontleed sodat hy kan besluit wat


hom te doen staan, maar telkens beland hy in ’n doodloopstraat. Hy ken geen
ander pad vorentoe as om van oom Andries en Tanya se goedheid afhanklik
te wees nie. Binnekort sal hy sterk genoeg wees om op die spoor van sy
verlede terug te gaan en sodra hy gevestig is, sal hy hulle dubbel en dwars
vergoed vir alles wat hulle vir hom gedoen en beteken het.

“Boetman, dink jy nie dis tyd om terug te kom huis toe nie?” onderbreek
Andries die jong man se gedagtes. Hy staan al lank eenkant onder ’n boom en
het die skaduwees op Bosman se aantreklike gesig gesien kom en gaan. Op ’n
manier verstaan hy Bosman se wroeging en wou hom die geleentheid gee om
self tot ’n besluit te kom, maar die wolke skuif al weer voor die son in en hy
adem die vars geur van naderende reën in. “Ounooi het vir jou pizza gebêre,
hoewel dit seker nie meer alte lekker sal smaak nie.”

“Oom Andries, wat maak oom hier?”

“Ek kan vir jou jok en vertel dat ek na die voëls kyk, maar jy sal weet dat dit
nie so is nie,” skerts Andries droog. “Ek het Ounooi geleer dat dit nooit nodig
is om te lieg nie en hoe kan ek nou daardie gulde reël verbreek? Dit sal mos
nie reg wees nie.”

“Oom …”

“Ja, toemaar, Ounooi ‘Oupa’ my ook gereeld as ek ’n antwoord probeer


omseil.” Waar is sy getroue ou pyp tog? Vervlakste doktertjie wat
voorgeskryf het dat hy moet ophou rook. So asof dit op sy jare nog belangrik
is om sy longe op te pas. Was dit nie vir Ounooi nie, het hy die jong snuiter
in sy maai in gestuur. “In ieder geval, wat ek wou sê … o ja, ek het kom kyk

wat doen jy. As jy nie wou hê ek moes jou kry nie, sou jy seker ’n paar
honderd tree verder gestap het, nie waar nie?”

“Met oom se logika kan ek nie stry nie,” erken Bosman, hoewel dit nie
voorop in sy gedagtes was dat hulle na hom sou kom soek nie. Hy het
inderdaad uit selfbejammering geglo hulle sal alte bly wees om die laaste van
hom te sien. “Ek is jammer as ek ongerief veroorsaak het, maar ek moes
eenkant kom om te besin.”

“Ek verstaan, Boetman. Ek het op ’n tyd ook my skoensole deurgeloop op


soek na die ‘wat nou?’ van die lewe. Toe was ek jonk en fiks en kon dus
verder stap as jy,” spot hy. “Kyk, ons moes seker oop kaarte met jou gespeel
het oor die ding dat ons vermoed het jy is dalk ’n ontsnapte skelm, maar die
tyd was nie reg nie. As die son geskyn en die telefoon gewerk het, sou ons
dadelik ’n ambulans gebel het, maar toe werk dinge anders uit. Dit maak mos
nie saak wie jy is of wat jy gedoen het nie. Dit was ons Christelike plig om na
jou welstand om te sien, en wie is ons om nie in die barmhartige Samaritaan
van toeka se voetspore te volg nie.”

“Ek waardeer alles wat oom-hulle vir my gedoen het.”

Andries kug, want die eerlikheid in die groen oë veroorsaak ’n krapperigheid


in sy keel. “Dan is alles mos reg, Boetman. Kom eet nou jou pizza. Dis
vanaand my beurt om kos te maak en ek weet nog nie wat ek gaan opdis nie.”

Bosman staan stadig op en strek sy stywe bene tot hy bo die ouer man
uittoring. “Oom,” vra hy neerslagtig, “wat doen ek nou? Ek kan mos nie veel
langer so op julle nekke lê nie.”

“Ons kyk maar wat die dag van môre oplewer, Boetman. Wyser woorde as
dit het ek nie vir jou nie.”

“Gelukkig skyn die son helder en as jy opgewasse voel, kan ons sommer
voetslaan.” Tanya kyk ondersoekend na Bosman wat sy arms deur die rugsak
se bande druk. “Is dit nie te swaar vir jou nie?”
Haar besorgdheid wil-wil hom ongeduldig stem. Hy is darem nie so swak
soos wat sy dink nie, maar hy lag dit liewer weg. “Ja, Ma! Ek is seker my
bene sal die gewig van twee bottels water en wat Ma nog alles hierin geprop
het, kan dra, Ma!”

“Toe, jy, ek bedoel dit goed,” skerm sy kamma ernstig en wend haar dan

tot Andries, wat hulle na buite vergesel het, en groet hom opgewek met ’n
klapsoen op die wang. Sy stap voor Bosman uit na die voetpad tussen die
bome en ruigtes deur na die holkrans bo die rivier.

“Jy moet mooi kyk na my kleindogter, Boetman!” roep Andries agter hulle
aan. Hoewel hy weet dis onnodig, voel hy tog onrustig. Moes hy nie maar
saamgegaan het nie?

Bosman rek sy treë om die rooikop voor hom in te haal. Loop sy aspris so
vinnig om hom uit te daag? Dan sal sy daardie mooi, lang bene wat tussen die
kniebroek se some en haar tekkies sigbaar is, baie vinniger moet beweeg. Hy
voel uitgerus en so lewenskragtig dat hy kans sien om ’n marathon aan te
durf. Buitendien is haar figuur met die uitdagende teruggooi van die skouers,
die dun middeltjie en die effense heupswaai genoeg om die adrenalien deur
sy are te laat pomp en hom sodoende aan te spoor om haar te volg reg om die
aarde tot terug op hierdie einste plek waar hulle weggetrek het.

Skielik steek sy vas en wag vir hom. Sy het die gevoel dat hy haar
moedswillig nie ingehaal het nie omdat hy haar speels dophou. Was dit Riek
of iemand anders, sou sy verontwaardig gewees het, maar omdat dit Bosman
is, stem dit haar opgewonde en vul haar met ’n energie wat haar voete aan die
huppel wil sit. Noudat hy herstel het en die mens is wat hy sekerlik
gewoonlik is, kan sy haar bewondering skaars verdoesel. Op die oog af is hy

’n man vir die buitelug. Sy arms en bene is atleties gespierd met die res van
sy liggaam wat daarby pas. Vanuit sy aantreklike, bruingebrande gesig bekyk
sy besonderse groen oë die wêreld en sy medemens skerpsinnig
belangstellend en die amperglimlag wat sy mondhoeke soms inkeep, versag
die lyne op sy gesig tot ’n weerloosheid wat haar hartsnare laat tril. Gelukkig
is sy bos donker hare wat sy daardie eerste dag so versnipper het, besig om
uit te groei en sal binnekort die letsel agter sy oor verberg. Dis net die
onsekerheid oor sy verlede wat soms skaduwees in sy oë bring.

“Kan jy darem byhou?” vra sy besorg. Die duiweltjies wat haar oë laat
skitter, laat hom besef sy terg net.

“Amper nie,” speel hy saam en vryf oor sy bobene. “Ek is gedaan en kry
krampe. Jy moet onthou dat ek baie siek was en nog swak is.”

Sy ken hom nie goed genoeg om te weet hy is besig om te korswel nie.

“Kom sit hier dat ek dit uitvryf,” bied sy berouvol aan. “Ekskuus, man, ek het
nie besef ek het so ’n stywe pas aangegee nie. Hoekom het jy nie lankal
gepraat nie?”

Hy gaan sit op ’n stomp en sy hurk voor hom, bereid om sy bobene te


masseer. Haar kop buig vooroor terwyl sy haar hand op sy kaal been sit om
die seer spier te vryf. Hy kan dit nie oor sy hart kry om haar gewilligheid uit
te buit nie, sit sy hande op haar skouers en trek haar nader in sy omarming in.

“Ek trek sommer jou been, Tanya,” sê hy sag met sy lippe op haar kroontjie.

“Ek het nie geweet jy sal my ernstig opneem nie.”

Sy weet sy behoort haar te wip omdat hy van haar liggelowigheid misbruik


gemaak het, maar sy kry haarself nie sover nie. Roerloos sit teen hom met
haar wang teen sy breë bors en die ritmiese klop van sy hart onder haar oor.

Sy arms is om haar en sy gesig rus op haar kop met sy asem wat haar hare
roer. Haar hande rus op sy kaal bobeen om haar ewewig te behou. Dit sou
hemels gewees het om die res van die dag so te sit, maar nou is dit haar beurt
om krampe te kry.

Eindelik kan sy nie anders nie en staan op, steeds tussen sy knieë met sy arms
om haar. Die kring van sy arms skuif af tot sy gesig teen haar maag druk en
sy die aanraking van sy lippe op die stukkie kaal vel tussen die kniebroek en
die T-hemp kan voel. ’n Elektriese stroom tref haar met ’n krag wat haar na
haar asem laat snak. Dit versprei van die plek waar sy lippe aan haar raak af
na haar tone en op tot in haar haarwortels. Terselfdertyd verlam die
gewaarwording haar ledemate en jaag die bloed deur haar are sodat haar
asemhaling en hartklop versnel. Die onbekende aanslag op haar sinne is so
oorweldigend dat sy alle beheer oor haar nugter denke verloor. Al wat op
hierdie oomblik saak maak, is die ekstase wat haar tot vervulling wil
voortstu.

Onverwags stoot hy haar versigtig weg en staan op. Met sy rug na haar
gekeer, wag hy dat sy tot besinning kom. Haar gesig word vuurrooi, maar dis
van skaamte en onderdrukte teleurstelling. Woede maak haar bewerig terwyl
haar asemhaling versnel. Sonder om vir hom te wag begin sy aanstap. Wat
dink hy daarvan dat sy so hewig op sy toenadering gereageer het?

Eindelik haal hy haar in en praat met haar sonder om aan haar te raak. “Ek is
jammer, Tanya.”

“Jammer?” Onthuts steek sy vas en kyk op in sy gesig. “Jammer omdat jy


met my die draak gesteek het? Of jammer dat jy my vertroue misbruik het?

Voel jy tevrede noudat jy vasgestel het dat jy steeds weet hoe om ’n meisie te
verlei en haar dan summier weg te stoot, sonder ’n verskoning en net met ’n
skromelike ‘jammer’? Het jy dit geniet om met my emosies woer-woer te

speel?”

Hy skud sy kop. “Ek is jammer omdat ek nie weet wie op my tuiskoms wag
nie en my emosies die oorhand laat kry het. Ek belowe jou ek sal my
voortaan gedra en my afstand hou.”

Ek wil nie hê jy moet jou afstand hou nie, wil sy uitroep, maar pers eerder
haar lippe saam. Sy begryp waarom hy haar weggestoot het, maar dit maak
steeds seer. Sy wil nie aan die moontlikheid dink dat ’n ander vrou miskien
gretig op sy tuiskoms wag nie. Sy durf nie dink in terme van ’n verloofde of
vrou nie, want dit sal haar hart breek. Sy is so lief vir haar Bosman.

Woordeloos stryk hulle aan. Bosman loop steeds agter haar in die smal
voetpaadjie en hy merk berouvol hoe haar stap sy veerkrag verloor het terwyl
haar skouers vooroor neig, asof sy grond toe kyk. Hy verwens homself omdat
hy hulle samesyn met sy lawwe speletjie bederf het. Hy wou haar terg, maar
dit het geboemerang en die glorie uit die dag gehaal.

Eindelik stap hulle tussen die ruigtes uit en Tanya steek vas. Iewers kan hy
die geruis van water oor klippe hoor. Sy staan op die rand van ’n krans en
saam met haar kyk hy na onder. Die rivier bruis oor en tussen die klippe deur,
haastig om die strandmeer en uiteindelik die oseaan te bereik.

“Ons het jou daar onder gekry,” beduie sy.

Hy kyk na die punt waar haar vinger wys en dan fronsend teen die krans op.
Hy moes met rotsklim besig gewees het toe hy geval het. “Dis nie baie hoog
nie,” merk hy afgetrokke op terwyl hy aan die wond agter sy oor vat.

“Waarskynlik het jy met jou kop op ’n skerp klip geval. Jy het baie bloed
verloor voor ons jou gekry het. Voor Ammie jou gekry het,” korrigeer sy
haarself. “Hy het ons kom roep en ons het jou net betyds weggekry, anders
het die rivier jou saamgevat see toe.” Dan sou hy nie oorleef het nie, verswyg
sy ’n feit wat haar koue rillings gee. As Ammie hulle nie betyds kom roep het
nie, was hy dood en sou sy hom nooit leer ken en liefkry het nie.

“Ek sal vir hom dankie sê sodra ek vir hom kan gaan kuier. Gaan jy hier vir
my wag? Ek wil afklim ondertoe om te kyk of daar nie dalk iets van myself
daar onder is nie.”

Sy skud haar kop sonder om na hom te kyk. Haar blik bly syne ontwyk omdat
sy vrees dat hy haar teleurstelling en hartseer daarin sal kan sien. “Jy sal niks
daar kry nie. Kyk na die opdrifsels en jy sal sien hoe hoog die vloedwater
opgestoot het.”

Omdat hy steeds vasberade is om self te gaan kyk, lei sy hom na waar ’n

steil paadjie tussen die klippe en rotse deur ondertoe lei. Die grond is nat met
poele modderwater wat tussen die rotse opgedam het en hy hou sy hand na
haar uit om haar te help. Sy het nie werklik ondersteuning nodig nie omdat sy
so rats soos ’n klipspringer kan klouter, maar sy waardeer sy bedagsaamheid
en vat sy hand. Tog het sy eers geaarsel. Gaan dit dieselfde uitwerking op
haar hê as die vurige aanraking van sy lippe op haar kaal vel? ’n Aanraking
wat haar bybly en telkens by die herinnering daaraan haar hartklop laat
versnel?

“Jy was reg,” sê hy teleurgesteld toe hulle eindelik die onderpunt van die
krans bereik en hy na tekens van menslike verblyf soek. “Óf ek het nie hier
oornag nie óf die water het dit saamgevat soos jy voorspel het.”

Takserend gly sy blik oor die rotse na die plek waar hy gelê het. “Die krans is
hoër as wat ek gedink het en hel oor, maar dit lyk nie onklimbaar nie. Ek
wonder waarom ek geval het. Sou ek gedurende die val gedraai of omgekyk
het sodat die klip my agter die oor kon getref het?”

“Dit sal jy weet sodra jy jou geheue herwin het. Dors?” Sy haal die botteltjies
water uit die rugsak wat hy eenkant neergesit het en hou een na hom uit.
Versigtig sorg sy dat sy nie te na aan hom kom nie. Sy kan haarself nie in sy
nabyheid vertrou nie.

Bosman merk haar terughouding op en frons. “Moenie vir my bang wees nie,
Tanya. Ek het mos belowe ek sal my afstand hou.” Hy maak die
plastiekbotteltjie oop en sluk dorstig aan die water. Sy blik volg haar terwyl
sy al met die oewer langs stap, die sonlig blink op haar los hare.

Onvergenoeg kners hy op sy tande. Die noodlot het hom ’n wrede streep


getrek. Dit het hom en die pragtige Tanya by mekaar uitgebring, maar iewers
lag iemand alte lekker omdat hulle so ver soos twee wêrelde van mekaar
verwyder is. As hy net sy dekselse geheue kan herwin sodat hy kan onthou!

Nadat hy die bottelproppie teruggesit het, kyk hy met meer belangstelling


rond. Dis in normale omstandighede ’n voortreflike piekniekplek. In die holte
onder die krans kan vuur op die rotsplaat gemaak word sonder die gevaar dat
die plantegroei kan vlam vat. Daar is genoeg skaduryke bome waaronder ’n
mens kan stilhou en ’n tentjie opslaan terwyl die poel water diep genoeg is
om in te duik en te swem. Hengel ook indien iemand daarin belang stel. Die
kampeerder kan ook rotsklim as hy atleties is, of sommer net in stilte die
natuur geniet.

Sou hy met ’n motor hierheen gery het? Hier is nou geen teken van ’n

voertuig of ander kamptoerusting nie. As hy hierheen geloop het, moes hy


iewers geparkeer het. Hy haal sy skouers op. Hy sal later daaroor tob. Nou
moet hy eers vasstel hoekom hy geval het. Indien hy teen die krans wou
uitklim, moes hy tog ’n ervare klimmer en voorbereid gewees het.

Peinsend stap hy na die onderpunt van die krans en soek die waarskynlikste
roete wat hy sou gekies het. Sy hande vind die eerste gleuf en hy hys hom op.
Werktuiglik soek sy voete na vastrapplek. Hy steun sag. Die stres in sy spiere
laat die wond agter sy kop pynlik klop. Dan word hy bewus van ’n dreuning.
’n Motorboot, of ’n viertrek? wonder hy. Hy kyk na die rivier, maar gewaar
niks. Die geluid word duideliker. Dit moet ’n klein vliegtuigie wees. Nee, dit
klink nie reg nie. Dan tref dit hom – dis die polsende klank van ’n helikopter.
Sy oë soek deur die lug, maar steeds sien hy niks.

Aha, amper bo, dink hy seëvierend. Sonder enige tou of hulpmiddel. Dit laat
hom goed voel. Hoe ver nog? Hy kyk op en dan sien hy die man wat op die
rand van die krans staan en hom dophou. Hy glimlag en lig sy een hand in

’n groet. Die man dink moontlik hy vra hulp, want hy buk vooroor en hou sy
hand uit. Hy klim die laaste paar tree en reik uit na die helpende hand.

Te laat besef hy dat die man kwade bedoelings het. Hy stamp hom met ’n
geweldige slag agteroor. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde kyk hy na die
honende glimlag op die man se gesig, en dan val hy. Voor hy behoorlik besef
wat gebeur het, tref hy die grond. ’n Geweldige pyn skiet deur sy kop. Vir ’n
onbepaalde tyd is hy in ’n beswyming. Dan kom hy by en sien die man oor
hom buk terwyl hy sy sakke deursoek. Hy lig sy hand op om die man te keer,
maar dié skop en trap op hom. Die harde skoenpunt tref hom weer en weer
oral op sy lyf en op sy arms wat hy oor sy gesig vou, tot hy nog eens in die
duisternis aan die pynlike foltering ontsnap.

Tanya buk oor hom waar hy uitgestrek op sy rug lê. Sy het te laat gesien hy is
besig om die krans uit te klim. Sy het na hom geroep en gesien hoe hy skielik
gelos en geval het. Al was dit nie baie hoog nie, lê hy bewegingloos.

Ontsteld kniel sy langs hom en luister met haar oor teen sy bors na sy sterk
hartklop. Hoe ernstig is hy beseer? Hoekom beweeg hy nie?
TIEN

Onverwags gaan sy arm om haar skouers. Met haar vasgevang in sy


omhelsing rol hy om sodat hulle rolle in ’n warboel van arms en bene
omgekeerd is. Tergend kyk hy af in haar oë wat wyd oop is van skrik. Haar
hart bons, maar sy weier om aan die roepstem daarvan gehoor te gee. Veral
nie ná wat vroeër gebeur het nie. Hy dink dalk dat sy soos speelklei in
kinderhandjies is, maar sy sal hom wys dat sy haar nie so maklik laat
oorrompel nie. Deksels, waarom doen hy dit aan haar? Hy het immers belowe
hy sal sy afstand hou. Sy spartel om los te kom, maar is magteloos teen sy
krag.

Dis egter nie sy plan om haar te liefkoos of te soen nie. Sy gedagtes is steeds
vol van wat hy onthou het terwyl hy teen die krans uitgeklim het. Dis waarom
hy doodstil bly lê het nadat hy die grond getref en byna sy wind uitgeval het.
Hy was bang die herinneringe sou verlore raak sodra hy sy oë oopmaak. Hy
kyk na die skrik in haar groot, blou oë en onthou dat hy belowe het om hom
nie aan haar op te dring nie. Ai, sy is so lieflik dat die innige teerheid wat sy
wese vul, hom byna sover bring om sy mond baie versigtig op hare te laat rus
om haar te oortuig dat hy nooit van haar sal vra wat sy hom nie gewillig
aanbied nie. Maar hy moet sy gevoelens in toom hou en sy belofte gestand
doen.

Die sagtheid in sy oë verdwyn en word deur opgewondenheid vervang.

“Moenie so verskrik lyk nie, my bosnimf met die rooi hare,” fluister hy
skertsend.

Sy breë glimlag laat haar wantrouig na hom kyk. Met watter speletjie is hy
besig? Sy hoop nie dis sy manier om haar sag te maak nie.

“Bosnimfies en feetjies het gewoonlik lang, wit hare,” kap sy terug,


vasberade om haar nie deur hom te laat ontsenu nie.

“Ek ken net een nimfie en sy is die mooiste van almal,” stry hy kamma
ernstig. “Selfs al het sy rooi hare,” voeg hy opgewek by.
Hy pluk ’n grashalmpie en kielie onverwags haar lippe en onder haar neus tot
sy ontspan en lag. Impulsief druk hy dan ’n soentjie op haar voorkop en

sit orent.

Langer kan hy nie die goeie nuus vir homself hou nie. “Ek onthou, Tanya!

Ek kan onthou.”

“Hè?” vra sy deur die wind voor dit tot haar deurdring wat hy pas kwytgeraak
het. “Wonderlik!” roep sy opgewonde uit, want sy het hom so lief dat sy hom
geluk gun. Sy vreugde word haar vreugde. “Regtig?” verneem sy tog ’n klein
bietjie versigtig. Sy kan nie glo dat hy oor iets so belangriks haar been sal
trek nie, nogtans moet sy seker maak. “Alles? Vertel my wat jou regte naam
is. Ek bars van nuuskierigheid.”

Sy blydskap maak plek vir onsekerheid. “Ek weet nie,” erken hy verward.

“Ek dink ek kan net onthou toe ek die ongeluk gehad het. Moontlik het dit al
die dag voor julle my gekry het, gebeur. Of langer gelede. Ek was meestal
bewusteloos en het geen benul van hoeveel tyd verloop het tussen my
ongeluk en toe ek my bewussyn in julle huis herwin het nie.”

“Ek verstaan nie hoe jy kan onthou toe jy geval het, maar steeds nie weet wie
jy is en hoe jy hier gekom het nie.”

Ongedurig staan hy op en stap tot by die krans waar hy vassteek. Hy moet


onthou. Hy moet konsentreer tot hy onthou, dryf hy homself om die sluiers
voor sy geheue weg te skeur. ’n Hewige hoofpyn laat hom sy oë toeknyp en
sy vuiste teen sy slape druk. Tanya, wat op sy lyftaal ingestel is, vermoed
dadelik dat daar fout is. Sy gaan staan besorg by hom en vra wat makeer.

Teësinnig vertel hy van die verblindende hoofpyn wat hom getref het.

Besorg lei sy hom terug na waar die rugsak staan. Sy haal ’n houertjie met
hoofpynpille uit, skud twee in haar hand uit en hou dit saam met die botteltjie
water na hom uit. Aanvanklik wil hy weier, maar die pynsteke in sy kop is so
fel dat hy toegee en dit sluk. Daarna dwing sy hom sagkens om te gaan sit en
syg langs hom neer. Met sy elmboë op sy opgetrekte knieë, laat rus hy sy
gesig in sy hande en maak sy oë toe.

Ná ’n lang ruk praat hy weer. “Ek was so seker my kop is nou helder, maar
ek was blykbaar verkeerd. Ag, Tanya, gaan ek dan nooit onthou nie?”

“Moenie haastig wees nie,” troos sy hom. Sy vou haar arm om sy geboë rug
en lê met haar kop teen sy skouer. “Sodra jy beter voel, kan ons huis toe
gaan. Of as jy te sleg voel, kan ek die Jeep gaan haal.”

Hy skud sy kop en kreun weens die pyn wat die beweging veroorsaak.

“Nee wat, ek sal nou-nou oukei wees.” Skielik wil hy nie alleen wees nie. Dis
asof die onbekende soos ’n onheilswolk om hom toevou.

Andries is verbaas omdat hulle so gou terug is. Hy het gedink hulle uitstappie
sou langer duur. Toe hulle groet, sien hy hoe bekommerd Tanya is en dat
Bosman glad nie goed lyk nie. Hy stap saam met hulle na die jong man se
slaapkamer en sien toe dat Bosman gemaklik is voor hy saam met Tanya
uitstap en die deur agter hulle toetrek.

“Wat het gebeur, Ounooi?”

Sy vertel hom dat sy gesien het toe Bosman teen die krans begin uitklim en
geval het, en hoe opgewonde hy daarna was omdat hy onthou het hoe die
ongeluk gebeur het. Hy het geen besonderhede verstrek nie, maar op haar
vraag wat sy naam is, het hy moedeloos erken dat hy nie kan onthou nie. Net
daarna het die hoofpyn hom oorval.

“Oupa, ek dink ons moet hom by ’n dokter kry. Dalk is hy erger beseer as
wat ons vermoed het. Dalk is daar ’n drukking op sy brein of iets soos
skedelbreuk. Ek weet nie. My kennis wat dié dinge betref, is bra skraps.”

“Ek stem saam, Ounooi, maar sal hy bereid wees om te gaan?”

Vasberade stoot sy haar ken uit. “Hy sal net moet as ons so sê.”

Haar erns laat hom goedig glimlag. So ken hy haar al die jare. As sy ’n
besluit geneem het, laat sy dit nie maklik vaar nie. “Ounooi, daar is iets
waaroor ek jou mening wil hoor.”

“Ja, Oupa?”

Sy kyk verras hoe hy ’n koerant oopvou en na haar uithou. Hy druk met sy


vinger op ’n foto en sy kyk na die onbekende gesig van ’n man. Dis eers toe
sy die onderskrif lees dat skok deur haar ruk. Dis ’n vollengte-kleurfoto van
die vermeende moordenaar, Hendrik Human. Die foto is geneem nadat hy uit
die vangwa geklim het om in die hof te verskyn – kort voor sy ontsnapping.

Vir die eerste keer word hy vir haar ’n werklikheid. Die afgelope byna twee
weke het sy baie oor hom gepraat en gedink, maar hy het ’n vae, gesiglose
entiteit gebly. Nou kyk sy in sy gesig en hoendervleis slaan op haar arms uit.

Hy lyk dan net soos ’n gewone mens en nie na die monster wat verskeie
mense van hulle kosbare lewe beroof het nie.

“Wat van hom, Oupa? Hy is in die tronk. Ek wil liewer niks van hom weet
nie.”

Andries voel haar weersin aan en is spyt dat dit vir hom nodig was om haar
die foto te wys. “Kyk weer mooi na die foto, Ounooi. Nie na die man nie,

maar na sy klere. Lyk dit nie vir jou bekend nie?”

Nuuskierig vat sy die koerant en kyk na die klere wat die misdadiger dra.

Dit lyk vreeswekkend bekend. “Oupa?” vra sy ongelowig. “Dit lyk dan net
soos die klere wat Bosman aangehad het toe ons hom gekry het? Wat beteken
dit?”

Die ouer man haal sy skouers op en sug. “Dit kan toevallig wees, maar dit
kan ook beteken dat Boetman die skurk geken en gehelp het. Dat hy met hom
klere geruil het om hom te help om minder opsigtelik te wees aangesien die
polisie geweet het wat hy gedra het toe hy ontsnap het.”

Tanya laat haar nie maklik oortuig nie. “Maar Oupa, daar moet honderde
sweetpakke soos hierdie een in omloop wees,” teken sy driftig beswaar aan.
“Maar hoeveel het die naambandjie met die letters H. H. daarop aan die
binnekant van die T-hemp vasgewerk?” Beswaard pluk hy aan sy snor. “Laat
ons hoop dat wanneer hy wakker word, Boetman ons vrese kan besweer. Ek
kan hom nie as ’n wetsoortreder sien nie.”

Geduld was nog nooit een van Tanya se sterk punte nie en sy stap summier
om hom te gaan vra, maar toe sy die deur oopstoot, sien sy dat Bosman op sy
sy gedraai het en met sy rug na die deur aan die slaap geraak het. Dankbaar
omdat haar tekkies geen geluid op die plankvloer maak nie, sluip sy op haar
tone nader en kyk af op sy aantreklike gesig. Wat het hy daar teen die krans
onthou? Was dit goed, of minder goed? Hy sal hulle moet vertel sodra hy
wakker word. Sy onderdruk die impuls om hom teen sy slaap te soen en vlug
na buite. Sy het so oneindig lief geword vir hom. Wat gaan sy doen indien hy
binnekort weggaan? Selfs al herwin hy nie sy geheue nie, sal hy nie
onbepaald by hulle kan of wil tuisgaan nie.

Skaars terug in die kombuis met die vrieskas se deksel opgelig terwyl sy
moet besluit wat om vir ete voor te berei, word haar morbiede gedagtes deur
die gelui van haar selfoon onderbreek. Sy haal dit uit haar sak en sien dat dit
Riek is. Dis altyd goed om sy stem te hoor en sy antwoord dus dadelik.

“Hallo, meisiekind,” vrolik sy stem haar dag op. “Ek het goeie nuus vir jou.
Mamma Sofia is besig om my ore af te neul en ek het aangebied om haar nou
dadelik te vat sodat sy vir julle ordentlike, voedsame grootmenskos –

haar woorde! – kan kook. Is ek betyds om jou te keer voor jy ’n brousel begin
saamslaan het?”

Kamma verontwaardig baklei sy met hom: “Ek kán kook, meneer Lotter!

Mamma Sofia is natuurlik altyd welkom om in die kombuis te kom oorneem.

Waarsku haar dat hier ’n berg strykgoed op haar wag. Dis nie nodig dat jy
haar bring nie, ek kan haar kom haal en weer terugvat sodat sy nie hoef te
loop nie met dié dat die brug weggespoel het. Wou jy met die drif langs
kom?”

“Nee, strandlangs. Dis laagwater en die bietjie water van die rivier wat oor
die duin spoel, sal skaars enkeldiep wees. Dis baie nader. Jy gaan nie ry nie.

Ek is op pad en ek sien julle nou-nou. Julle is by die huis, of hoe?”

Skielik aarsel sy. Hy weet nog nie van Bosman nie. Hoe gaan hy reageer?

Dit sal aanvanklik ongemaklik wees om te verduidelik en hy kan haar


verkwalik omdat sy hom nie op die dorp al van die vreemdeling in hulle
midde vertel het nie, maar miskien is dit beter dat hy met sy eie oë onder
meer kan sien dat Bosman beseer was.

“Ek kook solank die koffiewater,” groet sy opgeruimder as wat sy voel. Sy


sien geensins uit na al die ongemaklike verduidelikings wat voorlê nie.

“Koffiewater?” verneem Bosman in die oop middeldeur. Hy was wakker toe


sy netnou oor hom geleun het, maar het gemaak asof hy slaap omdat hy moeg
is vir vrae waarop hy nie antwoorde het nie. Nou het sy lus vir koffie hom
kombuis toe gejaag. “Kan ek ook koffie bedel, asseblief?”

“Jy ontaard in ’n regte koffiepot nes my oupa,” spot sy liggies. Sy wens hy


het in sy kamer gebly tot sy Riek van sy omstandighede en verblyf by hulle
vertel het.

Asof in antwoord op haar gedagtes hoor sy Riek se bakkiedeur toeklap en


kort daarna staan hy in die kombuisdeur. Hy stap dadelik na haar toe, omarm
haar en soen haar asof hulle verlief en verloof is. Blosend stoot sy hom weg.

Wat moet Bosman van Riek se optrede dink? Dat sy met elke man in haar
nabyheid flankeer? Dan kyk hy op en sy arm val slap van haar skouers af.

Verleë begin sy die twee mans aan mekaar voorstel: “Riek Lotter …”

Riek val haar in die rede. “Aarde, Henning, wat maak jy hier?” Blykbaar
bedoel hy dit as ’n retoriese vraag, want hy vervolg dadelik: “Nadat jy nou
die oggend by my weg is, het ek gedag jy is huis toe. Lise-May soek jou met

’n seer hart. Sy is dwalend van bekommernis. Volgens haar sou jy net vir die
naweek weg gewees het.”
“Toe nie,” ontwyk Bosman ’n reguit antwoord. “Ek …”

“Toe-toe, loop gesels julle jonges in die sitkamer dat ek kan begin met die
kos,” onderbreek Sofia hulle.

Ammie tree agter sy ma se breë lyf uit. Sy mond val oop en hy wys met sy

vinger. “Dis die man. Die man wat nie heeltemal dood is nie. Ek het mos vir
Mamma vertel. Meneer Riek ook. Julle wou nie glo nie. Hy is toe nie
heeltemal dood nie.”

Tanya besef sy moet ingryp. “Ammie, ons was siek van bekommernis oor
jou. Ons het so geskrik toe jy die rivier in is en die water vat jou.”

Ammie lag oopmond, sy bruin oë blink van lekkerkry. “Ek het amper
versuip. Sommer baie water gesluk. Ek het groot geskrik. Ek was net so
amper dood gewees soos die man.”

“Ja, toe, loop maak jy die vullishouer leeg, dit loop al oor,” keer sy ma hom
toe hy nog wil praat. “Ek sal julle koffie bring, Tanya. Waar is professor?
Ammie, loop soek hom. Ek wil net een keer koffie maak en klaar.

Toe, roer jou litte. Ek het ’n magdom wat gedoen moet word voor dit donker
is. Wil nie die rivier oor in die nag nie.”

Vergesel deur die twee mans stap Tanya sitkamer toe. Sy wonder nog waar
sy moet begin, toe spring Riek haar voor.

“Wat het gebeur, Henning? Nadat die polisie almal kom aansê het om die pad
te vat en weg te bly tot hulle die skelm vasgetrek het, is jy met jou rugsak op
jou motorfiets vort. Ek dag jy is terug na Lise-May toe.” Riek klap die
verwarde Bosman gemeensaam op sy rug. “Gedag jy kan skelm voortgaan
met jou staptog sonder dat iemand jou gaan sien, nè? Hoe het dit gekom dat
jy toe deur Ammie gekry en geklassifiseer word as ’nie heeltemal dood nie’?

Net om kort daarna, gelukkig vir jou, deur oom Andries en Tanya van ’n
gewisse dood gered te word?”

“Ek wou teen die holkrans uitklim en het geval,” verduidelik Bosman vaag.
Hy kyk na Tanya, wat baie effens vir hom knik. “Ek is ernstiger beseer as wat
’n mens sou verwag het en was dit nie vir Ammie en daarna Tanya en haar
oupa se ingryping nie, was ek beslis bokveld toe.” Hy word onderbreek deur
Sofia wat die skinkbord met koffie bring en neersit sodat Tanya vir hulle kan
skink.

“Hoekom het julle niemand laat weet nie, meisiekind?” sit Riek sy
kruisverhoor onverpoos voort. “Het julle nie besef dat Henning mense het
wat bekommerd sou raak indien hy skielik vermis raak nie?”

Sy wil haar vererg oor sy uitvraery, maar besluit om dit so gou moontlik agter
die rug te kry. “Die storms het alle kommunikasie na die buitewêreld
onmoontlik gemaak en Bos … en die pasiënt was ylend sodat ons nie geweet
het wie om te laat weet nie.”

Riek kyk wantrouig van die een na die ander. Hy kry die gevoel dat hulle
dinge vir hom wegsteek. “Wat van jou ysterperd en rugsak? Jy het al jou
dokumente in jou leerbaadjie se binnesak gehad, as ek reg onthou?”

“Alles was in die rugsak en dis seker deur die vloedwater saamgesleur,”

maak Bosman ’n waarskynlike afleiding. Hy sou immers nie met ’n


leerbaadjie en valhelm teen ’n krans wou uitklim nie. Dan tref ’n gedagte
hom – die man wat hom aangerand het, is seker met sy motorfiets en ander
eiendom weg, anders sou Tanya of haar oupa dit gesien het.

Juis toe sluit Andries by hulle aan en neem dankbaar die beker koffie by sy
kleindogter. Hy som die situasie vinnig op en wonder hoeveel Ounooi en
Boetman vir Riek vertel het.

Dis egter Bosman wat besluit om met die waarheid vorendag te kom. Hy
vertel van sy herinneringe aan sy klim teen die holkrans uit die dag toe die
polisie per helikopter na die ontsnapte misdadiger gesoek het. Van die
soektog per helikopter het hy in die koerant gelees en omdat hy die helikopter
se dreuning gehoor het, hoewel hy dit nie gesien het nie, het hy die logiese
gevolgtrekking gemaak. Toe hy vertel hoe sy aanvaller hom meedoënloos
aangerand het terwyl hy katswink van die val was tot hy sy bewussyn verloor
het, snak Tanya geskok na haar asem.
“Ek en Oupa het oor die kneusplekke gewonder. Dit het nie gelyk na die
soort beserings wat jy tydens die val sou opgedoen het nie.”

“Dis al wat ek kan onthou van my lewe voor ek my oë hier by julle


oopgemaak het. Die ironie, Riek, is dat jy meer van my verlede weet as ek. Jy
het my Henning genoem en ek neem dus aan dat dit my regte naam is. Ek
weet nie eens wat op die Henning volg nie. Waarskynlik iets soos Harmse of
Hanekom.”

“Waarom sal dit juis met ’n h begin? Jy is Henning Weideman.”

Andries pluk nadenkend aan sy snor. “Die naambandjie in jou klere het die
letters H. H. opgehad. Ons het aangeneem die sweetpak het aan die skurk
Henk Human behoort, maar kon nie dink hoekom jy dit aangehad het nie.

Nou verstaan ek hoe die skelm se brein gewerk het. Hy het julle klere
omgeruil terwyl jy in ’n beswyming was. Daarna is hy met jou motorfiets en
ander besittings weg. Gelukkig dat hy in die stad herken en toe vasgetrek is.”

Henning knik peinsend. “Dit maak sin, oom.” Hy kyk weer na Riek, wat
steeds agterdogtig lyk asof hy nie kan vat kry aan wat hy pas gehoor het nie.

“Sal jy my asseblief vertel hoe goed jy my ken en wie die vrou Lise-May is?”

Riek lag geamuseerd. “Lise-May Liebenberg? Sy is een van die mooiste


meisies in ons land, indien nie in die wêreld nie. Tanya, jy moes al van haar
foto’s in die tydskrifte en koerante gesien het. Lise-May, die liefling van die
loopplank, gewese Mejuffrou Suid-Afrika, internasionale model en
opkomende filmster.”

Tanya se hart sak tot in haar skoene. Sy weet alte goed na wie Riek verwys.
Een van Suid-Afrika se spoguitvoerprodukte, word Lise-May Liebenberg
allerweë beskryf.

“Die naam Lise-May het bekend geklink,” erken sy mismoedig. Indien


Bosman, nee, Henning met háár bevriend is, het sy klaar verloor. Sy, wat
verkieslik sonder grimering en met los, windverwaaide hare tussen die bome
en bosse rondloop met haar kop vol gedagtes aan sprokieskarakters, sal langs
dié beeldskone model soos ’n vuurvliegie teenoor ’n yslike neonlig afsteek.

“Ek kan nie eens onthou hoe sy lyk nie,” frons Henning mismoedig. “Wat is
die verhouding tussen ons?”

“Luister, maat, laat ek eerlik met jou wees,” antwoord Riek sonder om
doekies om te draai. “Ek ken jou eintlik net as die ou wat gereeld by my kom
afsaal het as jy wil rotsklim, hengel of stap. Jy was gewoonlik alleen en het
nooit in spanaktiwiteite belang gestel nie. Daar is ander soos jy wat gereeld
wegbreek uit die stadslewe en in die natuur kom asemskep. Ek weet van jou
meisie, Lise-May, omdat jy haar foto terloops eendag vir my gewys het. Dit
was in jou beursie. Ek onthou dat jy vertel het julle staan op trou, maar dat sy
so besig is dat julle nie ’n datum kan vasstel nie. Intussen bly julle saam in ’n
dakwoonstel in die stad met ’n uitsig oor die see. Ek ken haar dus nie
persoonlik nie, hoewel sy baie gaaf oor die telefoon klink.”

Oorbluf staan Henning op en stap tot voor die venster met sy hande agter sy
rug. Waarom kan hy nie onthou nie? Hoekom skram sy geheue weg van ’n
verlede wat blykbaar goed en mooi is?

“Kom saam met my, dan gee ek jou haar telefoonnommer en julle adres.

Miskien onthou jy sodra jy haar sien. Ek verseker jou, sy is definitief iets vir
die oog. Dis nou as jy smaak het vir die meer byderwetse, gesofistikeerde,
modieuse meisies. Ek weer verkies iemand soos my ongekunstelde
meisiekind. Iemand onopgesmuk, sonder fieterjasies en grille.”

Tanya wens hy wil nie na haar as sy meisiekind verwys nie, so asof sy aan

hom behoort. Dit wek die indruk dat daar ’n permanente verhouding tussen
haar en Riek is. Sy wil hom reghelp, maar dis nie nou die regte tyd daarvoor
nie. Henning se gemoedsrus en toekoms is belangriker as haar eie gevoelens.

Ag, die gedagte dat hy haar sal opweeg teen iemand soos Lise-May, is
oorweldigend. Watter kans het sy teen die beeldskone, sjarmante model?

Veral aangesien hulle verhouding reeds so ver gevorder het dat hulle ’n
woonstel deel en ’n moontlike troudatum bespreek het.
Dis ooglopend dat Henning besluiteloos is. Sy wil hom voorpraat dat hy nog
nie gereed is om te vertrek nie, maar sy durf nie inmeng nie. Hy moet sy eie
besluite neem.

Andries kug. “Ek wil nou nie my neus in jou sake steek nie,” begin hy
versigtig, “maar jy kan nie dadelik weggaan nie, Boetman. Met die oog op
die nuwe verwikkelings sal jy seker ’n verklaring by die polisie moet gaan
aflê. Jou motorfiets en dokumente is gesteel, nie waar nie? Ek dink ek moet
die kaptein bel en hoor wat hy dink. Die aanranding is ’n nuwe klag wat by
die lang lys van misdade teen die verderflike ellendeling ingebring kan word,
nie waar nie?”

“Dit is so, oom,” gee Riek halfhartig toe. “Henning, jy kan by my kom bly as
jy wil. Jou rondawel staan op die oomblik leeg.”

Henning kyk beurtelings na die twee mans voor sy blik oor Tanya se geboë
hoof streel. Wat sou sy verkies? Hoekom probeer sy hom nie ompraat om te
bly nie? Gee sy nie om dat hy weggaan nie? Dit sal haar dalk pas om van
hom ontslae te raak. Hy weet die besitlike Riek Lotter sal dit verkies om sy
alleenreg op haar voort te sit.

“Ek dink ek sal nog ’n paar dae oorbly as ek steeds welkom is. Ek het oom
Andries belowe ek sal hom help met die probleem wat hy ná die baie reën
met ’n kraak in die huis se fondament het.” Oom, vergewe my omdat ek die
waarheid ’n bietjie verdraai, pleit hy sonder woorde. “Ek wil die taak graag
afhandel voor ek terugkeer stad toe. Jy kan vir my Lise-May se
telefoonnommer gee sodat ek aan haar kan verduidelik hoe sake met my
staan.”

Tanya kyk hoopvol op. “Ek kan die adres en telefoonnommer by jou kom kry
wanneer ek mamma Sofia later huis toe vat, Riek,” stel sy versigtig voor om
Riek nie agterdogtig te maak nie.

Riek kners op sy tande. Hulle staan in ’n gesamentlike front teen hom, maar
hy gaan nie so maklik bes gee nie. Hy het ’n troefkaart en haar naam is

Lise-May. Saam-saam sal hulle enige verbintenis wat dalk tussen Tanya en
Henning Weideman ontstaan het, in die kiem smoor. Tanya is syne en hy
gaan haar nie maklik aan ’n ander man afstaan nie.

Die ongemaklike stilte wat skielik opduik, laat Tanya die leë koffiebekers op
die skinkbord pak en met ’n verskoning kombuis toe dra. Sy vlug byna weg
van die drie mans af wat haar met gemengde gevoelens agternastaar. Sy wil
nie met Riek gesels terwyl hy haar eiegeregtig aanspreek asof hulle reeds

’n vaste verhouding het nie. Ook nie met Bosman wat verskonings maak om
langer vir die werklikheid weg te kruip nie; haar geliefde Bosman wat nou
skielik Henning geword het. ’n Ander naam wat sy nie met hom kan
vereenselwig nie en wat nie by hom pas nie. ’n Naam wat van hom ’n
afsydige vreemdeling maak. Wat baat dit haar om vir hom lief te wees terwyl
die beeldskone Lise-May op sy tuiskoms wag?

Sy wil ook nie naby haar oupa wees wat haar opsommend bestudeer nie.

Vroeër sou sy nie geskroom het om voor hom te kniel en met haar gesig op
sy skoot te huil nie. Toe het sy vingers deur haar hare gekam en sy sagte stem
het alles reggemaak. Dit het die seer van ’n doring in haar voet versag, en
verduidelik waarom dit soms gebeur dat klein voëltjies uit hulle nessies
geskop word. Nou voel dit asof hy nie hierdie groot twyfel en hartseer in haar
gemoed sal verstaan nie.

Haar oupa het nooit tevergeefs liefgehad nie. Sy groot smart was toe sy
geliefde vrou oorlede is, maar dit was anders. Wanneer iemand sterf, moet jy
dit mettertyd aanvaar, want dis ’n onomkeerbare verlies. Dis anders wanneer
jou liefde ter wille van ’n ander persoon verwerp word. Die pyn van ’n
gebroke hart word vererger deur die wete dat jy nie goed genoeg opweeg teen
die ander persoon wat bo jou verkies word nie. Die klein bietjie wrokkigheid
sal altyd met jou wees.

Of is sy verkeerd? Sy is so lief vir haar Bosman dat sy hom volkome geluk


gun. Hoe kan sy dan jaloers wees op die vrou van sy keuse?

Verward vee sy los hare agter haar ore in. Hoe wens sy op hierdie oomblik
dat daar iemand is wat sal begryp. Iemand soos ’n eie ma.

Sy soek deur die huis tot sy Sofia opspoor waar sy besig is om ’n badkamer
skoon te maak. “Mamma Sofia, ek het jou gemis,” kom die versugting diep
uit haar hart.

Die gesette Sofia kom steunend orent langs die bad wat reeds skitterskoon is,
maar nog nie genoeg blink na haar sin nie. Ondersoekend kyk sy na die

meisie wat sy soos haar eie grootgemaak het nadat dié haar eie ouers verloor
het. Sy sien die seerkry in die deursigtige blou oë en klik haar tong.

“Dis hierdie vreemde man wat toe nie heeltemal dood is nie, nè? Die een wat
Riek se plekkie wat hy met moeite en geduld in jou hart oopgeskrop het,
sommerso vir homself kom vat het, nè?”

“Daar was nooit enigiets tussen my en Riek nie,” stry Tanya onthuts.

Hoekom wil almal haar met Riek afpaar asof dit so bestem is?

“Almiskie. Dis nie te sê dat Riek nie probeer het nie.”

“Ek het hom nie aanleiding gegee nie,” verdedig sy haarself vurig. “Ons was
nog altyd net goeie vriende.”

“Maar sy hart loop nie oor net van vriendelikgeit nie, Ounooitjie.” Sy gebruik
Andries se troetelnaam vir Tanya omdat die klein meisietjie met ’n gesiggie
wat omtrent net twee groot, verdrietige ogies was, destyds diep in haar hart
gekruip het. “Jy sal hom moet vertel dat hy na ander weivelde moet soek
omdat jou hart en lyf hierdie vreemdeling wil hê.”

“Mamma Sofia!” roep Tanya geskok uit. Haar brandende wange en


versluierde blik verraai haar egter. “Daar is niks tussen my en meneer
Bosman nie. Ons het mekaar nog nie eens gesoen nie!”

“Nie omdat julle nie wil nie. Net omdat julle te ordentlik is.”

Tanya byt op haar onderlip terwyl sy Sofia dophou wat nou die teëls bokant
die wasbak vlytig blink vryf. Eindelik kan sy haar onrus nie langer vir
haarself hou nie. “Daar is ’n ander vrou in sy lewe, mamma Sofia. Hy sê hy
kan haar nie onthou nie, maar ek weet dat sy baie mooi is. Hoe kan ek met ’n
ander vrou meeding? Ek is wat ek is.”
Sofia sit haar vuiste in haar sye en bekyk die jong meisie ontstoke op en af.

“As hy teen sy oogvelle wil vaskyk en nie die blink pêrel in die oester kan
raaksien nie omdat hy na uitspoelkorale kyk, dan is dit sy loss. Daar is niks
met jou buitenste en jou goeie binneste fout nie. Riek weet wat hy aan jou
het.”

“Mag wees, maar dis ook my verlies, mamma Sofia. Ek wil nie vir Riek hê
nie. Ek is lief vir hierdie man wat Ammie vir my uit ’n watergraf gered het.

Wat moet ek doen?”

“Tsk, daai seunskind van my het meer hart as verstand. Pleks hy huis toe
gekom het soos ek hom aangesê het, dan het al hierdie moeilikgeit nie
duwweltjies op ons pad kom strooi nie.” Sy herkou aan Tanya se vraag en
haal dan haar skouers op. “Hartsdinge is vir my te onhelder, Ounooitjie. Baie

soos ’n vuil venster waardeur ’n mens nie mooi kan sien nie. Vol vliegakkie
en stof. Strakkies is dit beter dat jy jou oupa vra wie jy moet kies. In die
Bybel se dae het die grootmense vir hulle meisiekinders mans gekry om mee
te trou en daar was niks moeilikgeite nie. Noudat elkeen vir homself ’n
leefmaat moet soek, gaan dit soos met ’n bol wol nadat ’n kat daarmee klaar
is. Jy is nie seker watter is die begin of die stert nie.”

“Is dit al raad wat jy vir my het, mamma Sofia?” maak sy terneergedruk
beswaar. “Dit help my niks.”

“Asof jy met jou vlamhare ooit na raad van my of jou oupa geluister het as jy
iets in jou kop gekry het. Loop stamp jou kop en kom dan dat ek agterna jou
trane kan afdroog. Gaan kyk ’n bietjie of die soetpatats nog stowe. Die
sekerste manier om die pad na ’n man se hart te verloor is om die kos te
verbrand. Ek is seker hierdie vreemdeling in ons poorte is nie anders as ander
mans nie.”

Tanya word wakker gemaak deur Sofia met ’n beker koffie in die hand. Sy
knip haar oë om seker te maak dis nie ’n voortsetting van haar droom nie. Die
son is nog nie eens op nie.
Asof Sofia haar gedagtes gelees het, verduidelik sy ongeduldig: “Dis die mis
wat so dik is. Die sonnetjie het g’n kans om die nat aarde drooggebak te kry
nie. Of om laatslapers uit die kooi te braai nie.”

Tanya rek haar arms bokant haar kop uit en Sofia vervolg: “Kry nou klaar
met jou gerek en strek en vat die beker. Die werk wag.”

“Sjoe, jy is kwaai vanmôre, mamma Sofia.”

“Ja-ja,” versag die ouer vrou haar houding. “Dis julle skuld. Hierdie
sonskynhuis van ons is skielik so swaar van die skaduwees dat dit my skouers
eintlik grond toe druk. Moenie daar lê en lag nie, lyk dit vir jou of ek lus is
vir grappies maak?”

Voor sy die leë koffiebeker teruggee, verneem Tanya onskuldig: “Het


mamma Sofia altemit hier geslaap, of het Riek jou gebring? Kyk, my horlosie
sê dis nog nie eens agtuur nie.”

“Niks met my twee stampers verkeerd nie. Ek ken my tyd, of die son skyn
ofte nie. Ek laat nie dat daai simpel brandsiek hoenderhaan wat Ammie huis
toe gepiekel het my in die kooi vang met sy gekraai nie. Julle het seker
heelnag gekoukus, dié dat julle nog slaap.”

Nie gekoukus nie, wil Tanya haar reghelp, net slapeloos rondgerol. “My oupa
is tog seker op.”

“Ja, hy sit in sy studeerkamer en speel van daai sielstukkendsny-musiek van


hom. Die ander man snork dat die berge antwoord gee en jy hou my uit my
werk uit met jou praatjies.”

“Het Ammie saam met jou gekom?”

“Natuurlik, maar sy kop is ook vanmôre op ’n ander plek. Hy het koers


gekies wie weet waarheen. Hoop nie hy loop skop nog mense wat nie
heeltemal dood is agter die bossies uit nie.”

’n Frons vervang Tanya se glimlag. “Hoe klink dit my asof jy liewer wou hê
die man moes omgekom het, mamma Sofia?”
Sofia druk haar hand voor haar mond van skok, haar donker oë groot gerek.
“Hoe kan jy so ’n onchristelike ding van Sofia Ortlap dink, Ounooitjie?
Askies as dit vir jou so geklink het. Ek is net vieserig omdat die man julle
lewe kom omkrap het. Arme Riek is omtrent in ’n toestand. Loop rooioog
rond asof hy niks geslaap het nie. Verskree almal wat sy voetpad langs kom.
Skop glads na die hond wat stok gooi met hom wou gespeel het.

Hierso lê jy verkroes asof die kat jou kos afgevat het en ou meneer wil my
sommer laat tjank met daardie dermuitrygmusiek van hom. Ai, dat ons
pragtige huis vandag so vol donkertes moet wees.”

Sonder ’n verdere woord gryp sy die koffiebeker en skarrel weg. Tanya skuif
terug onder die slaapwarm beddegoed in, maar sy is nou helder wakker.

Dis waar, gee sy teësinnig toe. Sedert hulle Bosman-Henning hier ingedra
het, is niks meer dieselfde nie. Sal ook nooit weer dieselfde wees nie. Hy sal
weggaan en saam met sy Lise-May ’n vreugdevolle toekoms binnegaan
terwyl sy met ’n gebroke hart agterbly. As Riek haar werklik liefhet soos wat
hy te vertel het, wag daar ook diep ongelukkigheid op hom aangesien sy ná
Bosman-Henning nooit weer haar hart vir ’n ander man sal oopmaak nie. Sy
aard na haar oupa. Vir hulle is liefhê eenmalig en ewigdurend.

Met ontbyt agter die rug, stap Tanya na haar ateljee en skuif agter haar
rekenaar in. Die landlyn is herstel en sy kan dus op die internet ingaan. Sy
vind egter niks wat haar belangstelling prikkel nie, roep dus op die
woordverwerker die sprokie waarmee sy besig is op en lees ’n paar sinnetjies
sonder dat dit inslag vind. Dan maar die sketse voltooi waarmee sy besig is,
probeer sy haarself tot kreatiwiteit motiveer. Sy blaai deur haar sketsboek tot
by die skets wat sy van Henning gemaak het en staar hartseer daarna.

Die mis buite die venster is steeds so dik dat net die naaste boomstamme
swart vertoon. Dis ’n vreemd betowerende prentjie met ’n onwerklikheid wat
sy met die onsekerheid van haar gemoed kan vereenselwig. Sy voel verward
en verdwaal, vasgevang tussen hoop en wanhoop. Henning en haar oupa het
netnou aan tafel enkele gedwonge sinne gewissel, maar dit was ’n gesprek
waarby sy nie betrek is nie en geen belang by gehad het nie. Hulle was soos
vreemdelinge wat in ’n restaurant ’n tafel gedeel het sonder dat hulle
voorheen kennis gemaak het.
Sy skrik uit haar troebel gedagtes op. ’n Voertuig het pas buite stilgehou en
sy hoor ’n deur toeklap. Dit sal waarskynlik Riek wees, weet sy instinktief.

Sy oorweeg dit eers om stil weg te glip en te maak asof sy hom nie gehoor
kom het nie, maar dan skop haar inherente ordentlikheid in. Waarna sal dit
lyk? Riek is hulle vriend en miskien kry sy vandag die kans om dit by hom
tuis te bring dat hy nooit meer as ’n gawe maat vir haar sal wees nie.

Traag staan sy op en trek die kam deur haar los hare, wat kraak en vonkies
skiet weens statiese elektrisiteit. Vandag is sy nie in die stemming vir
grimering, ’n respektabele rok en skoene nie. Hoekom sal sy voorgee om te
wees wat sy nie is nie? Riek ken haar so. Sommer in haar verweerde jeans en
tekkies stap sy met die kort gangetjie langs na haar oupa se studeerkamer en
dan na die sitkamer waar sy terstond in die oop deur vassteek.

Riek is daar, maar hy is nie alleen nie. By hom is ’n skraal meisie met lang,
blink donkerbruin hare wat in sagte golwe oor haar skouers tuimel. Weens
die mistigheid buite is dit skemerdonker binne, nogtans verbloem dit nie die
meisie se pragtige gesig met die vol lippe en die delikate beenstruktuur nie.

Lise-May is in die werklike lewe net so mooi soos op die modefoto’s wat
gereeld van haar verskyn.

“Tanya, dis Lise-May Liebenberg. Lise-May, Tanya Brink,” stel Riek hulle
formeel aan mekaar voor.

Gelyktydig steek die meisies hulle hande uit en kyk mekaar opsommend aan.
Hulle lippe glimlag, maar Tanya voel skielik intens selfbewus in haar verslete
jeans en T-hemp terwyl sy na die ontwerperslangbroek en -sybloes van die
ander meisie kyk. Lise-May se grimering is natuurlik perfek, maar selfs
daarsonder sou sy beeldskoon gewees het.

“Aangename kennis, juffrou Brink. Riek het my so baie van jou vertel dat dit
voel asof ek jou al baie lank ken. Ek moet egter bieg dat ek nog nie een van
jou sprokies gelees het nie.”

Die lag in die mooi bruin oë stel Tanya gerus dat die meisie nie katterig is
nie. “Te verstane,” gee sy dus vriendelike toe. “My verhaaltjies is op jong
kinders gerig. Ek, weer, moet in alle eerlikheid erken dat ek nie alte veel van
die mode af weet nie.”

“Dan is ons kiets,” verras Lise-May haar spontaan skertsend.

“Sal ek vir ons tee bestel?” bied sy aan. “Ek sal sommer vir Bosman … ag,
ek bedoel Henning gaan vra om by ons aan te sluit.”

“Toemaar, meisiekind, oom Andries is reeds agter hom aan.” Inderdaad hoor
hulle naderende stemme. Onverwags trek Riek haar in sy arms in en die
omhelsing wat hy op haar afdwing is heeltemal onvanpas en word ter wille
van vertoon uitgevoer. “Jy het my nog nie eens ordentlik gegroet nie, my
liefling,” fluister hy hard genoeg sodat almal dit kan hoor.

Tanya moet haarself keer om hom nie weg te stamp nie. Sy vermetelheid
verstom haar. Om van die ander se teenwoordigheid gebruik te maak om haar
te soen op ’n manier wat op ’n ander tydstip ’n vuurwarm klap van haar kant
sou meegebring het! Nou hou sy haar ter wille van hulle gaste in. Sy voel
Henning se blik nadenkend op haar rus voor hy na Lise-May kyk.

Vir die pragtige meisie is die situasie ook ongemaklik. Sy tree na hom toe,
maar steek dan onseker vas. “Hallo, Henning,” groet sy hees. Vraend kyk sy
na hom terwyl sy gespanne wag dat hy die leiding moet neem.

Hy kyk na die meisie wat van kop tot tone die toonbeeld van perfeksie is,
maar haar voorkoms laat hom koud. Dan sien hy die verwarring en
verslaentheid in haar sprekende bruin oë en dit roer hom. Al kan hy haar nie
onthou nie, laat dit hom skuldig voel omdat hy vir haar ongelukkigheid
verantwoordelik is. Afgetrokke streel hy met sy kneukels oor haar sagte
wang. Sy is werklik besonder mooi.

“Ek is baie jammer,” maak hy lomp verskoning.

Trane blink in haar oë. Sy vat sy hand, druk haar lippe vlugtig op sy kneukels
en lei hom dan na die bank waar sy langs hom gaan sit, sy hande in hare. “Ek
verstaan, Henning,” fluister sy hees. “Ek het jou kom haal terug huis toe. As
ons eers tuis is en jy kan steeds nie onthou nie, dan maak ons vir jou afsprake
by die beste spesialiste in die land en selfs in die buiteland. Geld is tog nie ’n
kwessie nie.”

“Ek weet nie of ek nou al wil gaan nie,” stribbel hy ongemaklik teë. “Ek is
nog baie verward.”

“Ek gaan nie sonder jou terug nie, liefste Henning. Jou ouers, ons vriende,

almal wag op jou tuiskoms. Ons is lief vir jou en as jy eers tussen jou eie
mense is, sal ons sorg dat jy herstel. Ek belowe jou dit, Henning.” Sy druk
haar kop snikkend teen sy skouer. “Hoe gaan ek hulle in die oë kyk as ek
sonder jou daar aankom?”

Tanya draai om en stap stil weg. In die binnedeur steek sy vas en kyk na haar
oupa, wat sy rug na Henning en Lise-May gekeer het om hulle privaatheid te
gun. Dis net Riek wat eenkant ontspanne in ’n diep leunstoel weggesink sit
en hulle dophou. Sy wil hom roep en wink om saam met haar uit te stap sodat
hy nie langer soos ’n gretige verkleurmannetjie na hulle sal staar nie, maar
doen dit nie. Sy gaan haar geliefde verloor en sy het tyd nodig om daaroor te
peins en te treur.

ELF

Die mis is klam teen haar wange en op haar kaal arms. Dit lê spookagtig wit
tussen die bome en struikgewas. Haar voete volg vanself ’n voetpad sonder
dat sy doelbewus besluit waarheen om te stap. Sy wil net weg van die huis
waar daar ligte brand en stemme praat van weggaan sonder inagneming van
haar wat eensaam met ’n gebroke hart gaan agterbly. Sy soek stilte en
afsondering om soos ’n gewonde diertjie iewers in ’n holtetjie weg te kruip
en haar wonde te lek.

Met die mis wat haar uitsig tot ’n paar tree beperk en alle klanke smoor sodat
sy kan glo dat sy alleen soos die eerste mens in die paradys sonder ’n
metgesel is, stap sy voort. Warm trane brand haar oë en beperk haar visie dat
sy byna teen ’n boom vasloop. Droë takke en doringstruike haak aan haar
jeans vas omdat sy van die voetpad afgedwaal het en deur die boskasie
voortstruikel. Haar broek skeur en haar bene en arms word geskraap, maar sy
voel dit skaars. Wat is die bietjie seerkry vergeleke met die diep verwonding
van haar gebroke hart?

Eindelik sak sy uitgeput op ’n uitstaande boomwortel neer en laat sak haar


gesig op haar gevoude arms wat op haar knieë rus. Sy huil tot haar trane
opdroog en slegs snikke nog haar skouers ruk. Niks beweeg nie. Niemand
hoor haar nie. Sy kan haar wanhoop uitkreet en niemand sal hoor nie. Tog
doen sy dit nie. Dit sal nie verligting bring nie. Niks of niemand kan haar ooit
weer laat beter voel of die leegheid en verlange in haar stil nie.

Eenkeer verbeel sy haar sy hoor iemand na haar roep. Sy kyk op en skrik


byna toe sy ’n beweging tussen twee boomstamme gewaar. Met gespitste ore
luister sy, maar steeds hoor sy niks. Dit was seker een van die skaars klein
bokkies wat oorlewing in die wildernis gevind het. Haar oupa laat niemand
toe om op hulle grond te jag of wippe te stel nie. Self sal hy eerder sterf as
om ’n diertjie seer te maak.

Hoekom laat haar oupa dan toe dat sy deur hierdie intense marteling gaan?

Hoekom het hy haar nie gekeer toe sy haar brose hart voor Henning se voete
gelê het nie? Hoekom het hy Riek toegelaat om Lise-May hierheen te bring

sodat sy Henning saam met haar kan terugneem stad toe? Weet hy dan nie
hoe groot haar liefde en gepaardgaande smart is nie?

Sy wil nie hoor toe sy mense na haar hoor roep nie. Sy sien nie kans vir
afskeid neem nie. Laat hulle glo sy is ongevoelig, dit pas haar. Eindelik word
dit weer stil en kan sy ontspan in die afsondering van die mis. Later sal sy
terugsluip huis toe. Eers as dit weer net sy en haar oupa is wat skuiling vind
in hulle skewe huis, wat deur die meeste mense kopskuddend afgemaak word
as malligheid, sal sy geborge voel. Sy sal by haar oupa begrip en teen
mamma Sofia se sagte boesem vertroosting vind. Hulle sal by haar staan en
haar deur hierdie donker tyd help soos destyds ná haar ouers se dood.

Hoeveel minute of ure sy daar in die stilte gesit het, weet sy nie. Dis eers toe
sy haar oupa hoor fluit dat sy moeisaam opstaan. Haar lippe is droog sodat sy
nie kan terugfluit nie, maar dis nie nodig nie. Iemand naby haar fluit namens
haar. Die donker gestalte kom nader en steek eerbiedig enkele treë van haar
af vas.

“Ammie?” vra sy onseker. “Ammie, is dit jy?”

“Oom Voëlman het gesê … Ammie moet jou … soek en oppas.”

“Dankie, Ammie.”

Meer hoef hy nie te sê nie. Ammie verdwyn stil in die mis tussen die bome en
kort daarna sluit haar oupa by haar aan. Sy wag dat hy haar moet berispe
omdat sy sommer net weggeloop het, maar hy trek haar net nader en streel
oor haar hare.

“Hoekom het jy nie gekom toe ons na jou geroep het nie, Ounooi? Die mense
wou gegroet het voor hulle gery het.”

Trane loop oor haar wange. Is sy dan nog nie leeggehuil nie? “Ag, Oupa,”

sug sy verlore, “ek het nie kans gesien vir afskeid neem nie.”

Hy sug. “Dit gaan jou niks baat nie, Ounooi. Ek glo dat vandag die eerste van
baie kuiertjies was. Die mooie nooientjie gaan nie maklik bes gee nie. Jy sal
daaraan gewoond moet raak. Hou jy dan nie van haar nie?”

“Wat praat Oupa? Sy was so dêm nice dat ek daarvan kon stik!” vaar Tanya
gepynig uit. “Hoekom was sy nie liewer ’n opperste selfsugtige
prikkelpopfeeks nie?”

Andries se hand klem om sy kierie se knop om te keer dat hy na sy pyp soek.


Dis nie altyd maklik om te weet wat in sy kleindogter se kop aangaan nie.
“Hoe dan anders, Ounooi? Jy moes tog geweet het Boetman sou nie met

’n hooghartige leëkoppie deurmekaarraak nie.”

Terneergedruk byt sy op haar lip. “Dit sou soveel makliker gewees het, Oupa.
Dan kon ek gehoop het Henning sal mettertyd deur haar sien en na my toe
terugkom. Nou is sy so gaaf dat ek haar nie wil sien seerkry nie. Hoe durf ek
my geluk bou op iemand anders se hartseer? Ek is mos nie ’n monster nie.”
Net iemand wat onverwags baie lief geword het vir haar Bosman, weeklaag
haar seer gemoed.

“Kom nou, Ounooi, jy dink te veel,” troos hy haar.

Hy begin aanstap met sy arm om haar skouers en noodgedwonge moet sy


saamstap. Sy wil eerder verskuil in die mis van haar medemens wegkruip.

Hoe leeg sal die huis nie voel met net sy en haar oupa wat elkeen hulle eie
ding doen nie? Haar oupa het dit as troos bedoel toe hy vertel het Henning en
Lise-May sal vir hulle kom kuier, maar vir haar is dit nie iets om na uit te
sien nie. Sy sal dit nie kan verduur om te sien hoe gelukkig hulle is nie. Veral
nie as hulle eers getroud is nie.

Terug by die huis onttrek sy haar die res van die dag na haar ateljee.

Hoewel sy nie lus is vir eet nie, bring Sofia vir haar kos en sy moet
noodgedwonge daarvan eet om die ouer vrou nie aanstoot te gee nie. Die
mistigheid klaar mettertyd op, maar in haar hartseer sien sy dit nie eens raak
nie. Met ysere wilskrag dwing sy haarself om die sketse waarmee sy besig is
te voltooi. Hoewel inspirasie en entoesiasme ontbreek, maak sy gebruik van
tegniek en vind dat die eindproduk verstommend beter lyk as wat sy verwag
het. Dis tog net sprokiesboekprente en nie veronderstel om kunswerke te
wees nie.

In die loop van die middag kyk sy afgetrokke op sonder om werklik in te


neem wat sy sien. ’n Silhoeët tref haar oog en sy staar daarna. Hy staan
tussen die naaste bome met sy hande in sy broeksakke, die wind wat sy hare
roer, sy arms bruingebrand en gespierd, sy gesig ernstig sonder ’n glimlag.

Haar hart klop vinniger en haar asem stok in haar keel. Kan dit wees? Is
Henning dan steeds hier?

Verward skud sy haar kop. Dit moet ’n visioen wees, ’n hersenskim


veroorsaak deur haar intense verlange. Haar oupa het tog gesê hy is saam met
Riek en Lise-May weg. Lise-May wat vasberade was om nie sonder hom te
vertrek nie.
Sy drink elke besonderheid van hom in sonder om weg te kyk. Indien sy haar
oë knip, sal hy verdwyn. Opwinding wil haar dwing om op te staan en na
hom toe te gaan, maar sy roer nie, bang dat enige beweging die

betowering sal verbreek en sy beeld verlore sal raak. Haar oë begin traan en
sy vryf die wasigheid met haar hande weg. Soos sy gevrees het, verdwyn hy.

Dalk het hy weggestap, wil sy hoop, maar sy weet dit is nie so nie. Hy was
nooit daar nie.

Henning staar op sy beurt na Tanya, wat in die lig van die staanlamp
ongelooflik mooi lyk. Soos gewoonlik is sy sonder grimering, maar sy het dit
nie nodig nie. Haar vol lippe vertoon klam en uiters soenbaar. Haar vel gloei
en daar is ’n rosigheid op haar wange met die lang wimpers wat in halfmane
daarop rus terwyl sy afkyk na waarmee sy besig is. Die lig word blink in die
rooi van haar hare vasgevang. Dan kyk sy op en hoewel hy nie naby genoeg
staan om die uitdrukking in haar oë te peil nie, onthou hy hoe deursigtig blou
hulle is. Eerlike kykers wat hom ’n blik op die reinheid van haar siel bied en
waarin die skaduwees en lig mekaar afwissel namate haar luim wissel.

Waaraan dink sy terwyl sy so stip na hom kyk? Wens sy dat hy liewer saam
met Lise-May gegaan het omdat sy verblyf by hulle net onaangenaamheid
veroorsaak het? Waarom anders het sy nie eens kom groet toe Riek en Lise-
May gery het nie? Het sy gehoop hy is weg sodat sy en Riek in vrede hulle
verhouding kan voortsit?

Tog het sy een keer in die kring van sy arms gestaan terwyl hy sy lippe teen
die sagtheid van haar vel gedruk het. Hy het hom nie verbeel dat sy dieselfde
intense emosies as hy ervaar het nie. Dat die bewing van haar liggaam en die
skorheid van haar stem deur brandende hartstog meegebring was nie. Dat sy
bereid was om deur drif meegevoer te word tot vervulling indien hy nie
betyds tot besinning gekom het nie. Het dit dan vir haar niks beteken nie?
Was dit ’n oomblik van drif wat sy met enigeen in dieselfde omstandighede
sou gedeel het? Met die aantreklike, lewenslustige Riek Lotter dalk?

Die fisieke pyn wat hy ervaar, laat hom kreun. Die gedagte aan haar in die
arms van ’n ander man wil hom gek maak. Tog durf hy nie verwag dat sy nog
nooit die gedeelde genot van liefhê ondervind het nie. As hy Lise-May moet
glo, deel hy en sy al maande lank ’n woonstel met die oog daarop om te trou.

Hy is nie so naïef om te glo dat hulle nooit in daardie tyd ’n bed gedeel het
nie. Hoe durf hy dan kuisheid van Tanya verwag wat hy haar self nie kan
bied nie?

Maar nie Riek Lotter nie, kom sy hart in verset. Nogtans moet hy aanvaar dat
daar ’n baie innige verhouding tussen hulle is. Riek het haar al herhaaldelik
sonder skroom gesoen. Die blos op haar wange en die blitse in haar oë
beteken nie dat dit teen haar sin was nie. Waarskynlik is dit haar reaksie
omdat sy skugter is om haar gevoelens voor haar oupa en ander mense te
wys.

Sugtend draai hy om en stap weg. Wat baat dit hom om van Tanya te
dagdroom terwyl hy steeds onseker oor sy toekoms en sy onbekende verlede
is? Hy het ’n paar dae grasie gevra om sy gedagtes te orden. Nogtans weet hy
instinktief wat hom te doen staan. Hy moet teruggaan stad toe. Hy sal by sy
ouers gaan bly tot hy sy geheue herwin en sy lewe uitgepluis het. Vir Lise-
May wil hy nie seermaak nie, maar hy wil haar nie vals hoop gee dat hy met
hulle verhouding kan voortgaan nie. Hy sal mediese hulp moet kry om hom
met sy geheueverlies te help. Voorlopig kan hy geen besluite neem nie.

Nogtans is daar een feit waarvan hy seker is – hy en Tanya se paaie sal nooit
kan saamloop nie, selfs al begeer hy dit met sy hele hart.

Die son hel oor na die weste en dit word skemer sodat die enkele staanlamp
nie meer genoeg lig maak nie. Vermoeid staan sy op, strek haar spiere en
staar verlangend na die plek tussen die bome waar sy Henning sien staan het.

’n Hartseer glimlag pluk aan haar lippe. Sy naam kom al makliker, hoewel hy
in haar hart steeds haar Bosman sal bly. Tevrede kyk sy na die werk wat sy
verrig het. Selfdissipline het haar deur hierdie middag gedra en dit sal haar
moet motiveer om die werkstuk te voltooi waaroor sy aanvanklik vol geesdrif
was.

Haar oupa se fluit onderbreek haar terneergedruktheid. Etenstyd. Ai, tog, as


dit nie vanaand sy beurt was om hulle van ’n ligte ete te voorsien nie, sou sy
nie eens daaraan gedink het nie. Ter wille van hom sal sy haar hare kam en in
die kombuis by hom aansluit, aangesien dit tog net hulle twee sal wees.

Sy word verras toe sy by die eetkamer verbystap en opmerk dat haar oupa
reeds aansit. Nou toe, het sy haar plig versuim en vergeet dat sy die ete moet
maak? Dan maar alles wat eetbaar is op die tafel uitpak en toebroodjies maak.

“Kom sit, Ounooi. Ons word vanaand bederf.”

Die tafel is netjies gedek met borde, eetgerei, servette, wynglase en ’n paar
blomme in ’n vaas. Daar is plek vir drie met heerlike geure uit die kombuis.

Asseblief, nie Riek nie, hoop sy van harte. Sy sien nie vir hom kans nie.

Vraend kyk sy na haar oupa, wat maak asof hy nie die vrae in haar oë
raaksien nie.

Henning kom met ’n warm oondbak tussen albei hande binnegestap en sit dit
op die tafel neer. Afgesien van die dik handskoene waarmee hy die bak uit
die oond gehaal het, het hy ’n voorskoot om sy middel gebind. Die gewerskaf
het sy hare oor sy voorkop laat tuimel en sy groen oë lag haar onnutsig toe.

“Ek hoop julle hou van my eenskottelgereg. Moenie my vra wat alles hierin
is nie. Blykbaar het ek in my ‘vorige lewe’ gereeld kos gemaak en dit het
sommer vanself gekom. Sal ek vir ons wyn skink, oom?”

“Terwyl jy nou tog so handig is, Boetman,” stem Andries in.

Tanya is aanvanklik sprakeloos van verbasing. Dan vaar sy verontwaardig


uit: “Wat maak jy steeds hier? Ek dag jy is weg. Oupa het dan gesê hy is
weg,” baklei sy gelyktydig met die twee mans.

“Ek het van Riek en die mooi nooientjie gepraat wat gery het, Ounooi,”

verdedig Andries homself. Hy maak sy stem kamma dik. “As jy vanmiddag


soos ’n ordentlike mens aan tafel geëet het in stede daarvan dat Sofia jou kos
agter jou moes aangepiekel het, sou jy gesien het Boetman is nog hier.”

“Sou jy verkies het dat ek saam met Lise-May moes vertrek het?” Daar is nie
beskuldiging in sy stem nie, net teleurstelling en ’n ander, ondefinieerbare
ondertoon wat haar terselfdertyd verwar en met opwinding vul. “Ek kan
verduidelik – as dit is wat jy wil hê.”

“Kom ons eet eers voor die kos koud word,” keer Andries. Hy lig die
wynglas. “Op die toekoms!”

Hulle beaam sy heildronk. Henning sit oorkant haar sodat Tanya nie anders
kan as om na hom te kyk nie. Borrelende geluk jaag die bloed soos
vonkelwyn deur haar are en haar kop word lig daarvan. Henning het besluit
om by haar te bly, en al is dit geleende ure, sal sy dit dankbaar vasgryp en
soos kosbare pêrels diep in die skatkis van haar geheue wegbêre.

“Ek het besluit om langer te bly omdat ek soos ’n lafaard wegkruip vir die
verantwoordelikhede wat in die toekoms op my wag,” erken Henning eerlik.

Sy hand vou oor die breedte van die tafel oor Tanya s’n. “Ook omdat ek nie
kans sien om afskeid te neem van die twee mense wat my versorg het ten
spyte van hulle vrees dat ek ’n koelbloedige moordenaar kan wees nie.”

“A,” begin Andries en kug om die aangedaanheid uit sy stem te kry.

“Boetman, dit was mos ons Christelike plig.”

Henning skud sy kop. “Die meeste mense sou dit nie so ingesien het nie, oom
Andries. Ek het baie tyd gehad om daaroor te tob en te wonder waarom julle
so onbaatsugtig opgetree het. Eers nadat ek in so ’n mate herstel het dat ek
saam met julle die wildernis kon leer waardeer en dit onder my vel ingekruip
het, het ek besef waarom julle sulke besonderse mense is. Dankie, oom en
Tanya, dat julle my geleer het wat werklik belangrik is in die lewe.

Ek het my geheue verloor, maar dit was vir my goed om ’n nuwe lewe hier in
julle midde te vind. Ek is seker dit het ’n beter mens van my gemaak.”

“Jy is verkeerd indien jy dink jou geheueverlies het jou ten goede verander,
Boetman. Al wat gebeur het, is dat die lagie hardgebakte beskawing
afgeskuur is en die werklike jy na vore getree het. Wie jy nou is, is wie jy
werklik is. Nog altyd was.”
“Dankie, oom, maar ek glo steeds dat dit julle en die ongeskonde natuur is
wat vir die verandering in my sienswyse verantwoordelik was. Iewers het ek
iets goeds gedoen en is ek op hierdie manier daarvoor beloon. Uit eie reg het
ek dit sekerlik nie verdien nie.”

“Kom ons noem dit ’n wake-up call,” skerts Tanya om die vonkel terug te sit
in die vonkelwynaand. “Hoe lyk dit, Oupa, sal ons Henning permanent as kok
aanstel? Buiten mamma Sofia het niemand ons nog met ’n tuisgemaakte
maaltyd bederf nie. Die kos smaak vorentoe.”

Henning lig sy glas en kyk deur die wynborreltjies na haar. Sy is so


ongelooflik mooi dat daar ’n knop in sy keel kom. Selfs Lise-May, die
liefling van die mense, se glans verdof teen dié van sy bosnimf.

“Selfs nie eens Riek nie?” bederf hy onwetend die oomblik.

Dit grief haar dat hy van Riek praat asof hy noodwendig ’n deel van haar
lewe is. “Ek wil nie oor Riek praat nie,” maak sy dit af.

“Hoekom nie?” hou hy aan. Besef sy nie dat ’n kortaf nee die volmaakte
antwoord is waarop hy gehoop het nie? “Hy kan weer nie ophou om oor jou
te praat nie.”

“Waaroor Riek praat of nie praat nie, is nie nou ter sake nie,” probeer Andries
die situasie red, maar hy is te laat om die vrede ná Henning se ondeurdagte
woorde te herstel. Tanya pers haar lippe saam en haar blou oë blits gevaarlik.

“Ek sal die ketel aanskakel vir koffie,” bied Andries aan. Hy hoop die twee
hardekoppe begrawe die strydbyl in die rukkie dat hy weg is.

TWAALF

“Jy behoort al hierdie pragtige sketse in boekvorm uit te gee.” Henning blaai
deur die kinderboeke wat reeds in druk verskyn het. “Waar kry jy al jou
inspirasie vandaan? Nou praat ek nie van die sprokies nie. Hierdie prente is
elkeen uniek. Lê jy snags wakker en dink al die nuwighede uit?”

“Spot jy met my, Henning Weideman?” is sy dadelik gereed om haar eer te


beskerm.

“Eintlik is dit as ’n kompliment bedoel,” antwoord hy. “Kyk byvoorbeeld na


hierdie boom. Dis sekerlik net in sprokies dat ’n boom só kan lyk.”

Sy kyk na die prent wat sy belangstelling geprikkel het en lag hom uit.

“Moenie glo nie. Elke skets wat ek maak, het betrekking op ’n regte boom.

Waarom anders dink jy skryf ek sprokies? Niemand kan in hierdie


betowerende omgewing bly sonder om onder die bekoring daarvan te kom
nie.” Hy trek sy wenkbroue half ongelowig op en sy verdedig haar standpunt.

“As jy bereid is om te stap, sal ek jou gaan wys.”

“Rondom die wêreld, bosnimf,” spot hy. “Waar jy kan gaan, daar sal ek aan
jou sy bly.”

“Goed, kom ons val in die pad.”

Al skertsende vertrek hulle kort daarna met bottels water in hulle rugsakke
om na die wonderboom te gaan soek. Andries en Sofia kyk hulle agterna.

“Jy laat dit sommerso goedsmoeds toe, meneer Voëlman,” vaar Sofia
ontevrede uit. “Het jy al gedink waarmee ons agterna Ounooitjie se stukkies
hart gaan aanmekaarplak?”

“Laat ons hoop dit sal nie nodig wees nie,” verweer hy hom teen haar
beswaardheid. “Boetman is ’n ordentlike kêrel.”

“Almiskie,” stry Sofia. “Dis juis sy ordentlikheid wat gaan maak dat hy die
verpligtinge wat hy nou nie kan onthou nie, sal nakom sodra sy kop skoon
kom. Ai, ai, meneer Voëlman, ons vlamkop gaan nog baie trane stort. Pleks
sy haar geluk by meneer Riek loop soek het.”

Andries se hande voel oor sy sakke na sy pyp. Vererg onthou hy van die
dokter se waarskuwing dat sy longe nie veel langer die rokery kan verduur

nie en stap sy eie koers in. Hy wou dit nie aan Sofia erken nie, maar hy het sy
eie bedenkinge oor die vriendskap tussen die twee jongmense. Iemand gaan
seerkry en sy verstand waarsku hom dat dit Tanya gaan wees.

Hy is skaars weg of Riek se bakkie hou langs die huis stil. Sofia sit haar
vuiste ongeduldig in haar sye. A nee a, so kan dit nie aangaan nie. Wanneer
moet sy met haar werk klaarkry as hulle huis soos ’n winkel wemel van die
mense? Om tyd te spaar, stap sy hom tegemoet.

“Hulle is nie hier nie, meneer Riek,” vertel sy voor hy nog kan vra.

“Ounooitjie en daardie man wat nou baie ver van dood af is, het met rugsakke
en al die bosse ingevaar. Meneer Voëlman het ook ’n koers ingeslaan. As jy
my vra, maak ek verniet kos vir middagete. Wil jy koffie hê?” Alles in een
asem sonder dat sy opsy staan om hom binne te laat.

Riek frons. “Nee wat,” wys hy die koffie kortaf van die hand. “Jy weet nie
watter koers Tanya en die man ingeslaan het nie?”

“Ek het nie gevra nie en hulle het nie gesê nie.” Sy aarsel omdat sy nie
voorbarig wil klink nie. “Meneer Riek, gaan jy toelaat dat hierdie man wat …

toemaar … jou hand in die as slaan?”

“Nie as ek dit kan verhelp nie, Sofia,” belowe hy vasberade. “Nie as ek dit
kan verhelp nie.”

Ná byna ’n uur se stap deur die wildernis en teen ’n skotige steilte uit, steek
hulle eindelik natgesweet by ’n helder poeletjie syferwater vas. Die
glashelder water borrel uit die mosbegroeide rotse op, vul ’n holte wat die
poel vorm en val dan as ’n miniatuur-watervalletjie in dun straaltjies oor die
kant voor dit tussen die plantegroei en klippe wegraak. Tanya strek haar plat
op haar maag uit en drink met haar mond water uit die borrelende poeletjie.

Sy kyk om na Henning wat haar geamuseerd gadeslaan.

“Jy kan dit gerus probeer,” moedig sy hom aan. “Dis lekker koel, en
suiwerder kan jy nie kry nie.”

Belangstellend hurk hy langs haar en skep water met sy bakhand op om te


drink. Sy lag hom uit omdat hy soos ’n regte stadsjapie versigtig is vir
enigiets waarmee hy nie vertroud is nie. Druppels blink op haar lippe en hang
aan haar ken. Hy kan sy blik nie wegskeur van die aanloklike meisie nie.

Sonstrale wat tussen die blare deurglip, word in haar rooi hare vasgevang en
verander in ’n stralekrans wat haar pragtige gesig omraam. My lieflike

bosnimf met die onskuld in jou oë, peins hy. Hoe gaan hy terug in die stad
sonder haar kan leef? Al is Lise-May hoe beeldskoon, sal hy nie sy lewe
saam met haar kan hervat nie. As dit nie vir Riek Lotter was nie, sou hy
Tanya teen sy hart kon druk en haar vertel hoe lief hy vir haar geword het.

“Haai, as jy nou so na my kyk? Dink jy ek is simpel of iets?”

Hy skud net sy kop omdat deernis in ’n knop in sy keel saamtrek en hy nie sy


eie stem vertrou nie. Hy het belowe om sy afstand te hou en hy is vasberade
om sy woord gestand te doen.

Die onpeilbare uitdrukking in sy blik laat haar hart al weer op ’n galop


wegspring. Moet dit nie aan my doen nie? pleit sy met haar hart om die
onstuimigheid tot bedaring te bring. Hy behoort aan iemand anders en hierdie
tussenspel is van korte duur.

“Jy wou die boom sien,” sukkel sy om haar gedagtes terug na die werklikheid
te bring. Sy maak haar rugsak oop en haal haar sketsboek uit.

“Wat sien jy?”

“’n Padda langs ’n plas water met die eienaardigste boom wat ek al ooit
gesien het op die agtergrond.”

“Gaaf. Daar is niks met jou waarnemingsvermoë verkeerd nie.” Hy beaam


wat sy sê met ’n skewe glimlag. “A, soos my oupa sal sê, maar jy sien nie die
betreklike raak nie.”

“Ekskuus?”
“Hoe groot is die padda vergeleke met die boom en omgewing?” Hy kyk
weer na die skets en dan verward terug na haar. “Hoe hoog dink jy is ’n
padda se oë bokant die grond? Presies,” voeg sy by toe hy eindelik begryp
waarop sy afstuur. “Jy moet plat op die grond lê met jou oë omtrent op
dieselfde hoogte as dié van die padda waarom die sprokie draai om te sien
wat hy sien.”

“Jy bedoel daar is nie regtig ’n gróót boom nie?”

“Nie as jy uit die oogpunt van ’n volwassene daarna kyk nie.”

Summier strek hy hom langs haar uit en met sy kop naby hare, volg sy blik
haar aanwysing. “Maggies, nè? Wat het jou daaraan laat dink? Op universiteit
van relatiwiteit geleer?”

Haar rinkelende laggie vul die helder lug. “Ek skryf vir kinders, meneer
Weideman. Die karaktertjies in my sprokies is almal min of meer dieselfde
grootte as die paddatjie. Sonder dat kleuters of kinders daaroor hoef na te
dink, aanvaar hulle dat die agtergrond by die karaktertjies moet aansluit en

hulle nie moet verdwerg nie. Behalwe as dit spesifiek deel van die verhaaltjie
se verloop is.”

“Ek sou nooit self daaraan gedink het nie,” gee hy toe.

“En om jou laaste vraag te beantwoord,” gaan sy voort. “Ek leef al sedert my
kinderdae saam met sprokies en namate ek ouer geword het, het ek begin
vrae vra en my oupa het dit mooi aan my verduidelik. Gelukkig het ek my
liefde vir fantasie nooit ontgroei nie en kan ek dus my reis deur wonderland
saam met die kinders voortsit.”

Hy het op sy sy gedraai en met sy wang op sy hand hou hy haar dop. Hy sal


nooit moeg word om na haar te kyk nie. Ingedagte streel hy oor haar wang en
laat van haar sagte hare deur sy vingers glip.

Tanya word so intens bewus van hom en die teerheid wat hy uitstraal dat sy
daarvan bewe. Sy wil sy kop na haar toe trek sodat hy haar kan soen, maar
skielik staan hy op en draai sy rug na haar.

“Nou wil ek jou in teenstelling iets groots wys,” onderdruk sy haar


teleurstelling deur so normaal moontlik op te tree.

Hy volg haar tot bo-op die rotse en steek skuins agter haar vas. Aan hulle
voete lê die bosse en bome uitgestrek tot waar branders in wit skuimtoppe
teen die rotse breek. Herfs is aan die kom en sommige van die bome is reeds
goud, oranje en roesbruin. Dis ’n skouspel van kleur tussen die donkergroen
van die ander bome en plantegroei.

Impulsief tree hy tot agter haar, vou sy arms om haar lyf en trek haar teen
hom vas. Die geur van haar hare vermeng met die subtiele aroma van die
wildernis en bedwelm hom soos wierook. Sonder terughouding leun sy teen
hom aan. Die wonder en vreugde van hierdie stil aanraking tussen hulle word

’n bittersoet belewenis. Instinktief weet sy dat hy besig is om afskeid te


neem. Dié is hulle laaste paar ure saam.

Die volgende dag word haar vrese bewaarheid.

’n Groot motor hou naby hulle huis stil. Drie mense klim uit. Tanya, haar
oupa en Henning was besig om tee te drink in die skaduwee van ’n baie ou
stinkhoutboom en stap nader om te verneem of die mense straks verdwaal
het. Eers toe sy Lise-May sien, steek Tanya vas. Nou kan sy Henning se
ouers eien en haar vermoede word bevestig. Hulle het gekom om hom terug
te neem huis toe en hy sal hulle nie kan weier nie.

Henning herken hulle nie, maar hy laat hulle toe om hom te omhels en
beantwoord hulle vrae na die beste van sy vermoë. Ook Lise-May soengroet
hom sonder die terughouding van hulle vorige ontmoeting. Tanya wil
wegkyk, maar dis onmoontlik. Henning se blik soek na haar en hy stuur ’n
noodsein uit wat sy noodgedwonge moet ignoreer. Sy wat nagte langs sy bed
gewaak het, kan hom nie nou help nie.

Lise-May stel sy ouers aan haar en haar oupa voor. Die steeds aantreklike
middeljarige vrou met die sagte groen oë vol begrip trek Tanya nader en gee
haar ’n vriendelike drukkie.
“Dankie dat julle my kind gered en versorg het,” bedank sy hulle opreg.

“Lise-May het ons vertel hoe onselfsugtig groot julle ontferming oor hom
was.”

Hoe dan anders? wil Tanya vra. Henning is uniek en die man aan wie haar
hart behoort. Sy glimlag egter net en nadat haar oupa hulle ingenooi het,
maak sy verskoning om vir hulle tee te bestel. Sofia het die nuwe
aankomelinge opgemerk en is reeds besig om hulle beste teestel af te stof en
op ’n skinkbord te pak. Een kyk na Tanya en sy klik haar tong ontevrede.

“Ek het jou gewaarsku, Ounooitjie, maar jy wou nie luister nie. Nou moet jy
daai vlamkop van jou lig en droogoog bly tot hulle weg is. Jy gaan hulle nie
wys dat ons agterna die stukkies van jou hart met Super Glue sal moet
vasplak nie.”

“Ag, mamma Sofia,” sug sy ontredderd. “Hoe gaan ek dit regkry?”

Tog bly sy koel vriendelik tot die oomblik dat Henning voor haar staan. Hy
lig haar ken met sy wysvinger op en kyk verlangend na haar af. “Ek sal kom
kuier,” belowe hy. Sy knik net en draai dan haastig weg sodat hy nie haar
trane sien nie. Sy stap tot onder die boom en bly daar staan tot die motor om
die draai tussen die bome verdwyn. Toe stort sy ineen en snik al haar
hartsverlange en verdriet teen haar oupa se skouer uit.

DERTIEN

’n Paar dae later kry sy op haar selfoon ’n oproep van ’n onbekende nommer
af. Aanvanklik wil sy dadelik antwoord omdat sy hoop dis Henning. Dan
weer is sy bang dat dit nie hy is nie. Ná die hoeveelste lui antwoord sy kort
voor die antwoorddiens oorneem.

“Juffrou Brink, goeiemôre, dis Willa Weideman, Henning se ma, wat praat.”

Paniek wurg haar keel sodat sy sukkel om die groet te beantwoord.


“Goeiemôre, mevrou.”

“Heel eerste wil ek jou weer eens uit die diepte van my hart bedank omdat
julle my seun gered en versorg het. As jy my die professor se selnommer gee,
sal ek jou oupa afsonderlik bedank.”

“Ag, mevrou, dit was ons Christelike plig, soos my oupa altyd sê,” wend sy
’n poging aan om opgeruimd te klink. “Hoe gaan dit nou met hom?

Onthou hy steeds niks nie?”

Willa Weideman sug hoorbaar. “Steeds niks,” vertel sy mismoedig.

“Juffrou Brink, mag ek jou maar Tanya noem? Henning, en Lise-May ook,
praat met die uiterste waardering, respek en liefde van jou sodat dit vir my
voel asof ons mekaar goed ken.”

“Sekerlik, mevrou.” Sy huiwer om na die regte woorde te soek voor sy


voortgaan: “Mevrou moet asseblief nie my oupa as professor aanspreek nie.

Volgens hom beteken die boekgeleerdheid nie soveel dat hy daaraan wil
vasklou nie. ’n Gewone meneer of verkieslik oom Andries sal beter afgaan. O

ja, hy glo ook nie aan ’n selfoon nie. Volgens hom is dit ’n lastige ding wat
sy privaatheid skend, sy konsentrasie verbreek en die voëls laat skrik
wanneer hy in die veld is. Dit kos selfs mooipraat om hom per landlyn te laat
praat!”

“Dankie dat jy my gewaarsku het, Tanya.” Sy kan hoor dat die vrou aan die
ander kant glimlag. “Om terug te keer na Henning, ons huisdokter het vir
hom ’n afspraak met ’n breinspesialis gemaak. Moontlik word die amnesie
veroorsaak deur ’n drukking wat deur ’n geringe operasie reggestel kan

word.”

“Ek bid vir sy spoedige herstel, mevrou,” kom dit opreg uit die diepte van
haar hart. Sy gun hom vreugde vorentoe, al is dit ook ten koste van haar eie
geluk.
“Tanya …” begin Willa huiwerig. “Lise-May is soos ’n kind in ons huis en
ons is baie lief vir haar. Henning was ook voor hy die ongeluk gehad het.”

Verbitterd pers sy haar lippe saam. Wat dan van my? wil sy dit uitgil, maar
swyg. Haar stem is hees van ongestorte trane toe sy antwoord: “Ek verstaan,
mevrou. Ek hou ook baie van haar. Ek is nie van plan om tussen hulle te kom
nie.”

“Ag, kindjie, ek wou jou nie seermaak nie,” sug Henning se ma berouvol.

“Ek is nie besig om vir my seun ’n vrou uit te soek nie. As hy vir jou lief is,
sal dit my goedkeuring wegdra. Ek probeer juis keer dat jy seerkry. Henning
en Lise-May is al baie lank ’n paartjie en ter wille van hom het sy pas ’n
tweejaarkontrak by een van die bekendste modehuise ter wêreld tydelik
uitgestel. Sy wil hier wees om hom ná die operasie by te staan. Jy moenie
enige verwagtinge koester van ’n toekoms saam met Henning nie.”

“Toemaar, mevrou, ek voel niks meer as vriendskap vir Henning nie. Om die
waarheid te sê, ek staan op die punt om verloof te raak aan ’n baie gawe,
aantreklike man, Riek Lotter. Lise-May en Henning sal jou kan vertel wie hy
is. Nou moet mevrou my verskoon, ek het werk wat wag.”

Sonder ’n verdere woord druk sy die foon dood sodat Willa afgehaal voel oor
die meisie se kortaf reaksie. Sy wou net die regte ding doen.

“Wat is fout, Ma?” verneem Henning, wat pas by sy ma aangesluit het.

“Het Ma tog nie met ’n skelmpie gesels nie?”

“Moenie laf wees nie! Ek het Tanya Brink gebel om haar te vertel dat jy ’n
spesialis gaan spreek. Toe vertel sy my dat sy en ’n sekere Riek Lotter
verloof gaan raak.”

Hy ruk asof iemand hom ’n vuishou gegee het. Het Tanya dan werklik so min
vir hom gevoel dat sy byna dadelik van hulle intieme oomblikke saam kon
vergeet het? So min dat sy reeds planne beraam om aan Riek verloof te raak?

Ná haar gesprek met Henning se ma is Tanya opnuut dwalende. Sy eet baie


min en wanneer sy nie iewers in die wildernis ronddool nie, lê sy lusteloos op

haar bed en staar na die plafon. Andries en Sofia is albei baie bekommerd oor
haar, maar daar is niks wat hulle kan doen om haar smart te verlig nie. Sofia
dra lekkernye aan en Andries dwing haar om hom op sy staptogte te vergesel.

Aangespoor deur Sofia, besoek Riek haar gereeld, maar sy bly afsydig en
reageer nie positief op sy grappies en pittige sêgoed nie.

Haar enigste werklike belangstelling is haar selfoon wat sy gelaai byderhand


hou. Henning sal haar bel, weet sy intuïtief. Hy sal nie sonder ’n
afskeidswoord uit haar lewe stap nie. Wat tussen hulle was, was te werklik en
spesiaal om sommer net opsy te stoot asof dit nooit gebeur het nie.

Een aand baie laat bel hy eindelik. Haar kamer is donker met net die sagte lig
van silwer maanstrale.

“Ek word môre geopereer,” sê hy dadelik sonder die gebruiklike gemeenplase


waarmee ’n gesprek gewoonlik ingelei word. “Die chirurg verseker my dat
wanneer die drukking op my brein verlig word, ek weer sal kan onthou. Dit
het toe blykbaar nie ’n sielkundige oorsaak nie.”

“Ek is bly dat jy volkome sal herstel.” Dis waar! Dis waar! stoei sy met haar
gewete. ’n Klein deeltjie van haar wou hê dat hy nie moet onthou nie omdat
hy dan miskien na haar toe sal terugkom, maar tog wil sy die beste vir hom as
mens hê.

“Daar is glo moontlik ’n newe-effek waarmee ek sal moet saamleef,” vertel


hy. “Die spesialis het my gewaarsku en ek moes besluit of ek daarvoor kans
sien.”

Sy trek haar asem in. “Wat is dit, Henning?” vra sy angstig.

“Ek kan my korttermynherinneringe verloor.”

“Wat bedoel jy?” fluister sy omdat sy hoop sy het hom verkeerd verstaan.

“Ek kan vergeet dat ek jou ooit ontmoet het.” Sy stem kraak. “Ek sal agterna
dalk nie vir jou of jou oupa kan onthou nie, nie die tyd dat ek by julle
deurgebring het, in herinnering kan roep nie. Ons saamwees sal verdwyn soos

’n droom wat ’n mens intens beleef het, maar agterna vergeet. Begryp jy wat
ek sê, Tanya?”

“Nie dit nie,” stry sy teen haar trane. “Henning, dan sal jy nie eens meer
onthou toe ons saam by die paddadam was nie.”

“Ja, my bosnimfie, dis wat sal gebeur.” Sy reageer nie omdat haar keel pynlik
toegeknyp word. “Ek weet nie of ek daarvoor kans sien nie!” roep hy
gesmoord uit.

Skielik begryp sy dat sy moet sterk wees. “Henning, die tussenspel van

enkele weke durf nie swaarder weeg as jou vorige lewe nie. Jy moet kan
teruggaan na die verlede en onthou van jou ouers, jou kinderdae, jou vriende,
jou geleerdheid en jou lewe saam met Lise-May. Ons kortstondige saamwees
is soos ’n sandkorreltjie in ’n skaal en dra geen gewig teen al die vorige jare
van jou bestaan nie. Ter wille van jouself, jou ouers en Lise-May mag jy nie
kop uittrek nie. Verstaan jy wat ek sê, Henning?”

“Ek verstaan, maar ek weet nie of ek dit kan doen nie. Dis so bitter moeilik,
Tanya. So bitter, bitter moeilik.” Hy peins ’n oomblik tot ’n blink ingewing
hom tref. “Ek sal ’n brief aan myself skryf om my aan jou en jou oupa te
herinner en dan sal ek julle kom opsoek nadat ek herstel het.”

“Moenie, Henning, moenie. Sodra jy weer kan onthou, sal jy self besef dat ek
reg was en dan sal jy dankbaar wees dat jy die regte besluit geneem het.

Tot siens, Henning. Dié sal dan ons laaste gesprek wees.” Sy skakel summier
die selfoon af en druk dit teen haar hart.

Vaarwel, my dierbare Bosman, ek sal jou nooit vergeet nie!

Die telefoon lui. “Hallo, Willa Weideman wat praat.”

“A, goeiedag, mevrou Weideman, dis Andries Brink hierdie kant. Hoe gaan
dit met julle?”
Die vrou aarsel verras en antwoord dan met ’n glimlag in haar stem.

“Professor Brink, dis ’n verrassing!” Dan onthou sy dat hy nie van die
formele aanspreekvorm hou nie. “Ek bedoel meneer Brink. Dit gaan goed
met ons, en met u en Tanya?”

“Kan nie kla nie, dankie. Hoe het Boetman … ek bedoel julle seun … se
operasie afgeloop?”

“Dokter Haupt is baie tevrede, dankie.”

“Ek is opreg bly daaroor, mevrou. Mag ek so voorbarig wees om te vra of hy


sy geheue teruggekry het?”

“Dis ietwat gou, want hy is nog baie swak en deurmekaar, maar hy het ons,
sy ouers, herken. En vir Lise-May, natuurlik. Sy is pal langs sy bed.”

“Gaaf. Dis goed om te hoor.”

“Ek sal hom sê dat u gebel het en groete stuur,” bied sy vriendelik aan en
voeg huiwerig by: “Ons weet nog nie of hy die afgelope weke se gebeure kan
onthou nie. U weet dat hy dalk nie langer herinneringe aan u en Tanya kan hê
nie, nè?”

“My kleindogter het my daarvan gesê. Moenie van die oproep melding maak
nie, mevrou. As hy ons nie self kan onthou nie, sal dit beter wees indien hy
nie met ’n nuwe stuk amnesie gekonfronteer word nie.” Hy kug omdat hy na
die regte woorde soek. “Dis eintlik hoekom ek jou gebel het het.

Ek dink dit sal beter vir my kleindogter wees indien sy nie weer van hom
hoor nie. Dit mag harteloos klink, nogtans is dit vir haar beter om te aanvaar
dat julle seun nie langer deel van ons lewe sal wees nie.”

“Is jy seker dis die regte ding, meneer Brink? Is dit wat Tanya wil hê?”

“Ja, wel, wat sy wil hê, is nie altyd die beste vir haar nie. Ek kan jou nie belet
om met hom oor haar te gesels nie, maar dink mooi oor die omstandighede na
en besluit dan. Terloops, ek het niks teen julle seun nie en wens hom net die
beste toe, mevrou, maar jy begryp dat my kleindogter my eerste prioriteit is.
Tot siens, mevrou Weideman.”

Willa sug. Hoekom moet daar altyd iemand wees wat seerkry?

Elke dag hoop Tanya dat dit die volgende dag beter sal gaan, maar dit gebeur
nie. Met verloop van tyd taan die hoop dat Henning hulle onthou het of
genoeg belang gestel het om met hulle in verbinding te tree. Sy aanvaar dat
sy hom verloor het, maar aanvaarding bring nie noodwendig heling vir haar
wonde nie.

Een Sondag ná kerk koop Andries soos gewoonlik die Sondagkoerant en


terwyl sy tuis vir hulle tee maak, maak hy dit op die tafel oop. Afgetrokke
lees sy oor sy skouer van die voortslepende misdaad, geweld en politieke
skommelings, maar dit raak haar nie regtig nie. Sy en haar oupa leef hier in
hulle hoekie in die wildernis, eenkant verwyder van die gewone daaglikse
kom en gaan. Net een keer het die buitewêreld hulle aangeraak toe die
moordenaar skuiling in hulle klein paradys kom soek het, en indien dit nie
toevallig met die koms van Henning Weideman saamgeval nie, sou selfs dit
onopgemerk by hulle verbygegaan het.

Sy bly ingedagte staan toe Andries hardop voorlees dat die reeksmoordenaar
se saak op die oomblik verhoor word en hoewel dit ’n lang, uitgerekte
verhoor sal wees, dit hoogs waarskynlik vir hom op meer as een lewenslange
tronkstraf sal uitloop. Eindelik sal ook die jong konstabel wat so gruwelik en
onnodig deur hom vermoor is, se dood gewreek word.

Om haar gedagtes weg te lei van die geweld, blaai Tanya deur die sosiale

blaaie. Dan verstil haar hand terwyl haar blik op ’n volkleurfoto van ’n
glimlaggende klompie mense val. Dadelik herken sy Henning saam met Lise-
May, wat ingehaak by hom staan. Haar blik verskuif en half gretig, half bang
lees sy die kort berig. Lise-May Liebenberg het glo pas oorsee vertrek om die
tweejaarkontrak wat sy ’n rukkie gelede gesluit het, na te kom. Sy verslind
elke woord, maar daar is geen melding van Henning nie – nie dat hulle
intussen verloof geraak het en dat hy haar gaan vergesel nie, ook nie dat hulle
trouplanne het nie. Tog staan hulle styf teen mekaar en kyk so intiem in
mekaar se oë dat die foto meer as duisend woorde spreek.
“Oupa, ek gaan kamer toe,” stamel sy omdat sy nie voor hom wil huil nie.

Haar hartseer raak hom erg en dis asof hy die afgelope tyd gryser geword en
meer plooie bygekry het.

“Ounooi, jy moet aanvaar …”

“Ek weet, Oupsie, ek weet,” val sy hom in die rede, “maar dit maak steeds
baie seer.”

Daardie nag dwaal sy soos kort ná Henning se vertrek slapeloos deur die
huis. Later kan sy die benouenis van die mure om haar nie langer verduur nie.

Met die naderende winter is die naglug reeds koel en sy pluk haar sweetpak
oor haar dun nagklere aan voor sy na buite stap. Net ’n kort rukkie, neem sy
haar voor. Sedert die voorval met Hendrik Human, het sy haar oupa belowe
dat sy nie meer snags buite sal rondloop nie. Tog dink sy vannag nie aan
gevaar nie. Sy soek kalmte en berusting, en dié kan sy net kry tussen haar
geliefde bome en bosse.

Hoe lank sy geloop het, besef sy eers toe sy op die rand van die holkrans
vassteek. Wat het haar hierheen laat kom? Seker omdat dit hier is dat sy
Henning die eerste keer gesien het. Hoe helder flonker die sterre teen die
swart van die uitspansel en hoe rustig spoel die rivier oor die klippe. Lank
staan sy so voor sy teen die skuins helling afstap ondertoe. Dan skrik sy.

Onder die holkrans brand ’n vuurtjie en daar sit iemand met sy arms om sy
opgetrekte knieë.

Haar eerste instink is om om te draai en te vlug, maar iets aan die persoon se
houding lyk bekend. Voetjie vir voetjie stap sy nader. Sy moet sien wie dit is
sonder dat die persoon haar opmerk. Tog het sy teen ’n los klip geskop, want
die man kom vinnig orent en tuur in haar rigting. Die oranje vuurlig flikker
oor sy aantreklike gesig en laat vlammetjies in sy oë dans.

“Henning!”

“Tanya!” roep hulle gelyktydig uit.


Vanself begin albei hardloop. Sy arms vou om haar en hy lig haar van haar
voete af en draai met haar in die rondte. Daar is geen keer aan hulle vreugde
om mekaar te sien nie. Die nagwind is koel op hulle wange, maar die hartstog
wat in hulle opvlam, verdryf die koue. Hy soen die trane van haar wange af
en gretig om hom nooit weer te los nie, klou sy aan hom vas.

“Wat maak jy hier?” vra hulle weer eens gelyktydig.

Om haar woordevloed te stuit, sluit sy lippe oor hare en in liefdesvreugde


raak hulle verlore in mekaar se arms. Eindelik lig hy sy kop op om asem te
skep. Hy trek haar saam met hom af grond toe en saam gaan sit hulle met
hulle oë blink in die oranje vuurlig.

“Ek dag jy het van my vergeet,” verwyt sy gesmoord.

“Terwyl ek deurmekaar was, het ek deurentyd die lieflike gesig van my


bosnimf voor my geestesoog gesien en tussen al die ander gesigte na jou
gesoek. Niemand het van jou gepraat nie sodat ek naderhand geglo het jy was
net ’n skim van my verbeelding. Eers in die hof, toe ek moes getuig hoe
Human my aangerand het en daarna met my motorfiets en besittings weg is,
het alles na my teruggekom. Ek het met my ouers oor jou gepraat en hulle het
ontwykend geantwoord dat jy iemand anders in jou lewe het en nie langer in
my belang stel nie.”

“Dis nie waar nie!” roep Tanya vurig uit.

“Lise-May het my van die teendeel oortuig. Sy is ’n fantastiese mensie en

’n dierbare vriendin, weet jy?”

“Ek dag jy is verlief op haar, Henning. Op die koerantfoto het dit so gelyk.

Julle het baie diep in mekaar se oë gekyk.”

“Dit was net ’n terloopse intieme oomblik, my liefling. Ons ken mekaar al
baie jare. Ek het gedink ek is lief vir haar, maar ons verskil te veel. As junior
vennoot in Weideman en Seun-argitekte moes ek soms glansgeleenthede
bywoon en sy was altyd aan my sy. Indien ons getrou het, sou ons mekaar
mettertyd geïrriteer het tot by die punt dat ons huwelik op ’n egskeiding sou
uitgeloop het.”

“Jou ouers het nie so gedink nie.”

“Hulle weet nou hoe ek oor jou voel en keur dit goed. My pa het my verlof
by die werk gegee sodat ek met my rugsak hier by julle in die wildernis kan
afpak. Ek kan so lank bly as wat dit nodig is om jou en jou oupa te oortuig
dat ek baie lief is vir jou en goed vir jou sal sorg en jou nooit sal keer as jy

kort-kort wil terugkeer na jou geliefde bosse en bome en sprokies nie. Ek het
jou so lief dat ek nie sonder jou kan leef nie.”

Sy lig haar gesig op na hom, haar sagte lippe is effens oop en haar oë skitter
geheimsinnig in haar beeldskone gesig. Langer kan hy die versoeking nie
weerstaan nie. Hy trek haar in sy arms in en sy lê gewillig in sy omhelsing
terwyl sy nie meer stry teen die ekstase wat haar meevoer nie.

Eindelik is dit net hulle twee in die donker sterrenag met die geluide van die
natuur wat in ’n eie ritme die polsing van die bloed deur hulle are begelei.

Veel later stoot sy hom saggies weg en kyk in die lig van die gloeiende rooi
kole na die liefde in sy groen oë.

“Kom ons gaan huis toe,” stel sy voor. “Dis netnou dag en dan sal Oupa
bekommerd wees as hy koffie maak en ek is nie daar nie.”

Skielik is hy bekommerd. “Wat gaan oom Andries daarvan dink dat ons lief
is vir mekaar? Sal hy my ooit as goed genoeg vir jou kan aanvaar? Dan is
daar nog Riek Lotter ook.”

“Oupa is lankal net so beenaf op sy Boetman as ek op my Bosman,” terg sy


vrolik. “Riek weet dat ek nooit vir hom kan lief word nie en hy aanvaar dit.
Jy behoort nou al te weet dat jy die enigste man is wat ek met my hele hart en
siel bemin, my liefling.”

“A!” sê hy tevrede nes haar oupa en dit laat hulle gelyktydig skaterlag.

“Kom hier, my pragtige bosnimf, gee my nog een, kort soentjie voor ons met
my nuwe motorfiets huis toe ry.”

Die kort soentjie is toe nie so kort nie, ontdek sy tevrede toe sy later met haar
kop op sy bors rus.

Harmony

Vera Wolmarans is hartstogtelik lief vir lees en is versot op rillers en


wetenskapsfiksie. Dit was haar droom om eendag ’n boek te skryf. Met die
verloop van tyd het die droom effens vervaag want sy is intussen getroud en
het vier kinders en vyf kleinkinders ryker geword. Kort voor haar vyftigste
verjaardag het sy begin skryf en tans het vyf-en-vyftig van haar boeke reeds
verskyn. Sy en haar man het in Parys afgetree, geniet die stilte baie, asook die
wit langhaarkat wat by hulle kom plak het en ’n koninklike bestaan voer.

Tussendeur leef sy haar droom …

Sprokie vir ’n bosnimf is Vera se eerste romanse in die Romanza-reeks.

Vorige titels deur dieselfde skrywer:

NUWE LIEFDE VIR MOIRA

LIEFDESVERRAAD

BEWAKER VAN MY HART

EENSAME HART

Harmony

Romanza is ’n onderafdeling van LAPA Uitgewers (Edms.) Bpk.

Bosmanstraat 380, Pretoria

Tel: 012 401 0700

E-pos: lapa@lapa.co.za
www.lapa.co.za

© Vera Wolmarans

Alle regte voorbehou

Sagteband ISBN 978-0-7993-4294-9

ePub ISBN 978-0-7993-5478-2

© Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige
manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die
uitgewer nie.
Document Outline
Titelblad
Een
Twee
Drie
Vier
Vyf
Ses
Sewe
Agt
Nege
Tien
Elf
Twaalf
Dertien
Veertien
Vyftien
Sestien
Meer oor die skrywer
Kolofonbladsy
Titelblad
Een
Twee
Drie
Vier
Vyf
Ses
Sewe
Agt
Nege
Tien
Elf
Twaalf
Dertien
Veertien
Vyftien
Sestien
Oor die skrywer
Kolofonbladsy
Titelblad
Een
Twee
Drie
Vier
Vyf
Ses
Sewe
Agt
Nege
Tien
Elf
Twaalf
Dertien
Meer oor die skrywer
Kolofonbladsy

You might also like