You are on page 1of 5

Aasvoëlsvlei

Die wit stippel op die horison nader die raafswart kraaie op die N12 teen presies 120 km/h. Laaste
repe rooivleis word gulsig van die teerblad geskeur voor die voëls onwillig, al krysende padgee. Voor
in die Nissan X-TRAIL sit Wilhelm en Ansie Raubenheimer, gevolg deur ʼn beige Invader-kampeerwa
met Wilhelm se knalrooi bergfiets stewig aan die agterent gemonteer agterna.

Dit is grafstil in die kajuit.

ʼn Blou plaasbakkie voor hulle beweeg flink na links van die geel streep en Wilhelm steek
bakbeen oor die stippellyn verby. Hy flits ingedagte die hoofligte. Ansie kyk afgetrokke na die man
langs haar: die militêre haarstyl, sy benerige gesig en ferm blik; lang, slanke vingers tien-voor-twee
op die stuurwiel. Hulle is byna veertig jaar al saam. Sy druk die skakelaar op die paneelbord en die
noodligte flits drie maal om dankie te sê. Hy kyk vlugtig na haar soeserige gesig.

ʼn BMW doem mettertyd in die truspieël op en kom sit vlak op hulle stert, maar die X-TRAIL
wyk nie ʼn aks na links nie. Wilhelm se houding nousedae is dat ʼn guns ongelukkig ʼn ondankbare
aanspraak geraak het en só sal elke Jan Rap en sy maat mettertyd bloot verbysteek en aankomende
motors moet maar sien kom klaar. Dis immers Afrika. Die BMW brul in die aankomende laan verby.
Wilhelm skakel die flikkerlig aan en trek links af.

“En nou, Willie?”

“Ek wil kyk of my fiets vas is.”

“Jy het mos in Kimberley seker gemaak.”

Hy haal ʼn geel borseltjie onder die sitplek uit en stap flink na agter om die fiets sommer gou
af te stof. Die blou bakkie kom aan, toet uitbundig en kruie verby.

Aasvoëlsvlei is in die mik van ʼn ravyn genestel waar bruin tannienwater en die golwende soutsee
strandlangs ontmoet: een winkel, een restaurant, ʼn rykmansbuurt, en twee kilometer van die strand ʼn
kampeerterrein onder woudreuse vol oumansbaard, Knysna-turaco, bobbejaantou, blouape en ʼn
magdom insekte.

Traag lig sy haar ken van die skootrekenaar op die piekniektafel; en die onbekende vrou kom sowaar
byna geluidloos aangesweef. “Hallo. Wat is jou naam?” Steeds kom sy nader. “Is dit ʼn kampplek hier
langs julle?”

1
Gmf ... Livingstone. David Livingstone, I presume … Moedswillig stug.

Ansie Raubenheimer staan aanvanklik hande op die heupe, sy verwerk alle permutasies en
vervolgens met vingertoppe sagkens teen haar ken betrag sy die omgewing. “Is daardie die
badkamers? Dit lyk so.” Skielik druk sy teenaan die houttafel met allerlei kraaipootjies om haar
grysgroen oë en met haar wysvinger steeds gepunt wag sy geduldig op ʼn antwoord.

Kan jy sien ek is besig, vrou?!

“Ek en my man ...”

Iewers roep ʼn mansstem. Luid. Ansie antwoord: “Ek is hiér, Willie! Hiér!”

Die vrou aan tafel verskuif haar sitvlak geïrriteerd. Verontrief. “O ... hallo ... um, weet jy ...
almal stap die hele tyd hierdeur toilet toe. Daar is ʼn nommer teen die boom ... maar, maar dit is so
klein ... ek ... eerlikwaar ... dit bottelnek ... om hier te kampeer ...”

“Ek is Ansie,” word sy kortgeknip. “My man is ʼn dokter. Wat het jy gesê is jou naam?”

“Noem my Fabioné.” ʼn Ondeunde glimlag kreukel nou om haar oë.

“Ek hoor nie. Fa ..?” Kop skuins.

“Fabioné.”

“Is dit met ʼn F?” Oë intens op skrefies.

“Ja.”

“Ja, ek sukkel nou sonder my gehoorstuk.”

“Fabioné!”

“Is jy alleen?”

“Nee, my ... maat het gaan stort.”

“M’m. Willie, my man, is verskriklik lief vir fietsry. Hy is ure aaneen weg op ʼn slag.” Ansie
bespied die omgewing weer vlugtig en bekyk die vrou aan tafel so ongemerk moontlik op en af. “Ja,
ek dink ek het die regte plek gekry. Is dit die rivier doer agter?” Haar oë gly goedkeurend oor die
gehuurde motorwoonwa.

“Jou man is ʼn dokter. En wat doen jy ...” vra Fabioné, draai die skootrekenaar weg van die
dwalende oë en sug sag, “... vir ʼn lewe?” ʼn Helder mansstem en die dreuning van ʼn voertuig bereik
hulle deur die fynruigte in die skemer van die woud: “... hom nou vir my gewip!”

2
“Tog.” Ansie rol haar oë so effens. “Ek het afgetree, maar Willie konsulteer steeds vir
maatskappye. Aai, daar ry my ou man al weer. Willie!”

Ansie verdwyn so grasieus as wat sy verskyn het en ʼn jong vrou met slierte nat, gitswart hare
en ʼn silwer bofbalpet kom met ʼn bont handdoek om haar heupe gebind sensueel uit die rigting van die
ablusie aangestap.

“Jissis, Boeteka, byna-byna het ons bure ... ek hoop, glo en vertrou hulle is vort.”

“Wou hulle op daai klein plekkie bly? Hoekom?”

[Die oprig van die Raubenheimers se Invader-watent was iets om te aanskou. Ansie het doodluiters
twee kampstoele onder ʼn tamaai boom staangemaak vanwaar sy die rysige Willie oënskynlik
doodtevrede dopgehou het met verstole kyke na die twee vroue by nommer 17 se motorwoonwa. Die
een is jonk, popmooi, petieterig en die ander een, wel, die een wat sy reeds ontmoet het lyk na ʼn regte
merrie. Willie het toe uiteindelik die Invader afgehak gekry, die X-TRAIL twee keer in trurat teen ʼn
boom gestamp en desnieteenstaande flegmaties bly vra of alles na Ansie se wense is. Daarná het hy
blitsvinnig met sy foon in hand op die knalrooi bergfiets geklim en so vinnig as moontlik gefokkof.]

“Hallo. Wat is jou naam?” Ansie se geplukte grys wenkbroue lig gemoedelik.

Sy spoel haar hande versigtig af. “Sandra.”

“En jou ma? Is sý jou ma? Ek het haar vroeër ontmoet, maar kon ongelukkig nie haar naam
hoor nie.”

Sandra glimlag inkennig. “O ... Fabioné ... nee, sy is beslis nie my ma nie.”

“Ag, allawêreld, Fabioné ... wat ʼn pragtige naam. Ek kon nie mooi hoor nie ... met al die
geraas. Ons kampeer langs julle. Ek en my man.” “Ek weet.” Ansie staar die jong vrou stip aan. Sy
wag. Op iets. “Die oom het weer gaan fiets ry, maar ons gaan julle beslis nooi vir ʼn glas wyn,”
glimlag sy en onverwags onderbreek ʼn frons Ansie se gedagtegang, “maar wag, Sandra ... sy noem
jou iets anders. Nie waar nie?”

“Ja, Boeteka. Ons het daar ontmoet. Sy is ʼn lektor. Verskoon my.”

[Hier volg ʼn samevatting van sommige van die woorde en snedes wat oor die loop van twee dae uit
vele monde ontsnap het: Sy selfoon selfs kleedkamer toe. Hedoniste. Ingenue. Verwyf. ʼn Novellis.
Baie jy-en-jouerig. Hier kom sy jou waaragtig al weer. Profiteur. Bekrompe. Dagstukkie. Inkruiperig.

3
Werk aan intreerede. Homoërotiek. Die oom! Ha-ha-ha! Eiesinnig. Genooi vir wyn. Dring aan by ons.
Bossiekop. Rigorisme. Bleeksiel. Gots. Obsedeer. Panteïsme. Werklik, ʼn dokter? Ouer as julle.
Middel van die paadjie!]

Sandra (Boeteka) skink vir hul beide meer rooiwyn.

“Vanoggend het sy vertel hulle gaan voëls kyk en vyf minute later was sy terug met die
verkyker om haar nek, gestewel en gehoed om Peaceful Sleep te kom haal. Kort daarná is hy weer op
sy fiets hier weg.”

Fabiané grinnik. “Nogal, nè. Ek het haar hoor vra of hulle kan gaan uiteet en tien minute later
was hulle terug van die winkeltjie af. Die suinige vrek is kort daarná op sy fiets hier weg. Selfoon
klaar in die hand.”

“Hallo.”

Hiér verskyn sy sowaar tooiloos in hul midde.

“Jissis, Ansie! Jy sal laat ek my gat afskrik,” swets Sandra en mors amper.

“Oe! Jou taalgebruik. Jammer, julle. My man het weer gaan fietsry.” Ansie kyk vraend na
hulle. “Ek het al heelwat met Sandra gesels, maar Fabie ... Fabiané, van jou weet ek nog eintlik niks.
Ons, ek en Willie, het gepraat en ons beplan om vanaand ná ete hier by julle vuur te kom sit en
sommer lekker te gesels. Ons eet vyfuur. Julle vuur het gisteraand so mooi gelyk.” Ansie kyk hulle om
die beurt aan en as niemand antwoord nie, vervolg sy, “ek wil nie pla nie. Ek het eintlik beplan om op
die strand te gaan stap.”

Onverwags lyk sy betotteld.

“As jy meer van Fabiané wil weet kan jy haar so 23:00 in die mans se badkamer ontmoet. Dis
wanneer sy stort,” giggel Sandra stuitig.

“I thought that Ms. Boeteka was a very nice lady … I thought so right up to the moment I cut
her throat …” grinnik Fabiané, “jy onthou nog vir Truman Capote.” Dan is haar gesig meteens
ernstig. “Ansie, luister. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, maar julle eet vyfuur en ons eet
eers sewe-uur. Op die vroegste. Dit pas ons nie.”

Ansie lyk opreg verbaas. “Fa ... nè, ons is heelwat ouer as julle en ons kry sooibrand as ons te
laat eet en dan gaan slaap. Dit lei tot dispepsie. Julle kan rustig kosmaak en eet terwyl ons saam sit en
kuier by julle vuur.”

4
ʼn Kortstondige stilte daal neer oor die Aasvoëlsvlei-kampterrein, meer spesifiek nommer
sewentien. Fabiané se gesig verbleek. “Nee-nee. Kyk, ou Kaatjie Kekkelbek. Julle wil ons nie daar hê
as julle eet nie, maar in dieselfde asem wil julle hier kom plak terwyl ons aansit. Raak net weg, in
godsnaam. En by the way, ek voel ʼn fok vir julle ouderdom. Dit is iets wat met almal gebeur.”

Ansie se grysgroen oë verstar geskok. Sy dwaal motories ʼn entjie weg, maar nog voor iemand
iets kan sê is sy vasbeslote terug. Steeds sprakeloos.

Sandra staan stadig orent en strek haar tot haar volle lengte. “Drie dae gelede was ons nie eers
bewus van jou bestaan nie. Nou ... kom ... jy en jou kamma fietsryer ... julle daag op uit die bloute en
steel ons vrede. Ons skuld julle niks.”

“My kinders is ouer as jy, wysneus!” maak Ansie bitsig kapsie. “Respek, asseblief!”

“Wat! Kyk, dis baie eenvoudig. Ons het jou nie nodig nie. Dit lyk my niemand het jou nodig
nie. Jy is ʼn figurant en jý toon geen respek nie. Gáán eerder vrou of jy gaan hier gemoer word.”

“Boeteka!” vermaan Fabiané skerp.

Ansie glimlag stroef, knik afwesig en ʼn traan vliet oor haar wang. “Jy is bitsig, my meisie,
maar eendag, jou bogkind,” waarsku sy misnoeg, “sal jy ook weet hoe dit voel om eensaam te wees.”

Uit die hoek van haar oog merk Sandra vir Wilhelm op sy rooi fiets agter die Invader met sy
selfoon futsel. “Weet jy hoekom is jy eensaam, Ansie?” vra sy sardonies.

“Los dit nou, Boeteka!”

“Hulle wil ons nie by hulle vuur hê nie,” mymer Ansie.

“Na die hel met hulle,” mor Wilhelm, kyk vlugtig in hul rigting en teug blasé aan sy roemer.

“Ek sal nie langer alleen wees nie, Wilhelm,” sê sy vasberade, “voortaan kan jy op jou fiets
gaan ry soveel jy lus het. Ek is nie langer iemand se indringer op sleeptou nie.”

You might also like