You are on page 1of 11

UITGANG / EXIT

('n Kortverhaal deur Henning Janse van Vuuren)

Die steenkoolswart Volkswagen Golf met 'n GP-nommerplaat hou stadig in die skadu van 'n reuse-

essenhoutboom buite Garden Route Botanical Garden stil. Op die passasiersitplek is 'n verweerde

sportsak met die Groen-en-Goud Springbok-embleem aan weerskante plek-plek afgeskilfer. Die

parkeerterrein aan die oostekant van die tuine is altyd stiller. Oor die klankstelsel speel Johnny

Clegg se The Crossing kwalik hoorbaar: Through all the days that eat away / At every breath that I

take / Through all the nights I have lain alone / In someone else's dream, awake.

Henko Pelser lek gespanne oor sy lippe, sug gedemp en druk hard met sy duime teen die stuurwiel

tot die sagte vleis wit raak. Hy merk terloops sy weerbarstige wenkbroue in die truspieëltjie – hy het

waaragtig oornag grys geword. Duskant die lig wat helder deur die essenhout se toppe flits, lê

Outenikwaberg kristalhelder teen die vars oggendlig afgeëts. 'n Skeelhoofpyn dreig al weer om in

sy stram nekspiere wortel te skiet. Henko tel sy slimfoon hoopvol op en staar na die raakskerm: stip,

strak, verbysterd, byna gehipnotiseerd. Ag Vader ... waar sal my hulp vandaan kom? draal sy

gedagtes. Hy wens vir 'n werksaanbod. 'n Instruksie. Miskien goeie nuus van die emigrasie-

agentskap. 'n Onderhoud. Enigiets.

Veral 'n wonderwerk.

“Jy prokrastineer,” mompel hy eindelik oorbluf en friemel die Garmin-sporthorlosie los van

sy pols, wring die trouring kopskuddend van sy vinger af en sit dit saam met sy betuurderslisensie

in 'n deursigtige plastieksakkie in die paneelkissie. Sy handpalms is klam. Dan tel hy die sportsak

doelgerig op, sluit die motor agter hom en stap vasberade aan. By die ingangshek groet hy stroef,

voltooi sy persoonlike detail vollediger as nodig en betaal die toegangskaartjie vir een.

Hiér is hy nou – die oomblik het aangebreek. Henko Pelser haal 'n slag diep asem en stap die

natuurparadys sleepvoet binne. Vir die eerste maal die afgelope twee jaar let hy werklik op die

sementkleurige seskantige steentjies onder sy velskoene. Die gewoel van miere en die fyn krake, al
die vlekke. Hy hoor sy eie voetval. Hoe eienaardig, mymer hy: Hy en Andrea het hoeveel keer die

parkrun in die botaniese tuin op 'n drafstap voltooi en vandag eers sien hy waarlik die meandriese

kinkel van die geplaveide voetpad tussen die lower om die dam.

Die uitbundige gelag van kinderstemme klink op in die verte en onderbreek sy gedagtes.

Onder die bankie waar hulle so dikwels gesit het lê 'n leë rooi KFC-houertjie en platgetrapte

aartappelskyfies word stelselmatig deur 'n streep miere aangedra. Die vrolikheid van die kinders

vanaf die gazebo ontstem hom. Ja. Miskien moet hy tog 'n rukkie sit. Andrea sal nie bekommerd

raak as hy nie vroeg tuis is nie. Hy kan netsowel 'n wyle vertoef. Wat maak tien minute saak? Hy

wil huil, maar dit is asof die trane so soos boomgom agter sy ooglede kleef.

Henko herposisioneer die sportsak op sy skoot en raak mettertyd bewus van die spieëlgladde

watervlak, bottelgroen varings wat die dam omsoom, drywende waterlelies, bergfynbos en die

rumoerige voëllewe in die fynruigte rondom hom. Die koel oggendlug kielie sy stoppelwange. Dis

so salig hier, dink hy. Hy futsel werktuiglik aan die sakbande. 'n Visvanger vlieg helderblou op en

voor sy voete dein 'n dooie stuk hout met die reëlmaat van 'n metronoom op en af. Stadig neem dit

sý vorm aan – sien hy homself, gesig na onder, stokstyf dryf. Hy sluk aan die knop in sy keel en gee

'n hoopvolle blik na sy foon: Niks.

Is hy net 'n défaitis?

Iets anders knaag ook aan sy binneste. Is hy nie te veel van 'n lafaard nie? Hy herinner

homself dat dit om Andrea se onthalwe is.

'n Lenige vrou in 'n wit somersrok met 'n spanjoel aan 'n leiband trek sy aandag en Henko

staan haastig op. Nee. Hy moet klaarmaak voor dit te besig raak.

Naby die kwekery kies Henko 'n houttafel in die skaduwee, rits die sportsak oop en haal 'n

Croxley-notaboek en pen uit. Hy stryk dit netjies voor hom oop. Die gebottelde water sit hy langs

hom op die bank neer en vroetel lomp deur die res van die inhoud, meteens haastig. Waar is die

slaappille nou?

Ongelooflik ...
Hy vryf verward deur sy hare en kyk vlugtig rond, krap weer in die binnegoed: drafklere,

nylontou en 'n plastieksak. Panado en Myprodol hou hy altyd byderhand. Hy het waaragtig die

slaappille vergeet ... Hoe de donner. Hy kan nie bekostig dat iets skeefloop nie. Verlam of

breinskade of ... Nee. Hy wil nie 'n las vir iemand raak nie – durf nie eers daaraan dink nie. Hy bêre

die Golf se sleutel in die sportsak en druk sy ID voor in sy jeans se sak.

Henko druk tien Myprodol-kapsules uit die plastiek-en-foelie velletjie, loer vlugtig rond en

sluk die pynstiller bewerig met 'n mondvol water af. Trane wel onverwags weerbarstig in sy oë op.

Alles voel skielik so onwerklik. Surrealisties. Soos 'n bisarre kunsfilm met hom as die hoofkarakter.

“Jy het nie 'n keuse nie,” fluister hy gebiedend, snuif en tel die pen op. Die blou lyntjies op die wit

bladsy strek soos 'n ewigheid voor hom uit – 'n geduldige leemte om te vul. Hy vryf hard oor die

stoppels op sy wange. Wel, wat kan 'n mens nou eintlik sê om jou finale afskeid te verduidelik,

murmureer hy wrokkig en staar afgetrokke na die leë bladsy. Iets diep binne hom weier steeds om te

glo dat hy inderdaad kan sterf.

Iets so toeganklik.

Haar silhouette verskyn skuins voor hom in die helder son, die spanjoel se pels glim

heuningbruin.

“Is jy 'n skrywer?”

Henko vou die notaboek haastig toe – asof onkant betrap. 'n Oomblik lank verdrink hy in

haar sielvolle bruin oë.

“Um ... nee ... 'n sielkundige.” Vertwyfeling syfer deur die kraak in sy stem wanneer hy

selfbewus na sy hande kyk en op die bleek ring om een vinger let.

“Psigiater. Eintlik.”

Sy knik met 'n frons. “Aha, mense se diepste geheime aan die ontrafel ... alles konfidensieel,

reg?”

Hy knik van stryk; besef hy voel effens bedwelm.


Sy groet in die verbygang.

Henko druk senuagtig aan die maantjie van sy duimnael en kyk haar oorbluf agterna. “Ja.

Totsiens.”

Hy skryf iets. Krap dood. Frommel 'n bladsy op en smyt dit weg. Probeer weer. Hy raak

lomerig.

Geliefdes, familie, vriende. Ons kan die dood nie ontwyk of ontsnap nie. Moet jouself dus

nie verwyt of met skuldgevoel worstel omdat jy dink jy kon iets aan my lewe of dood verander het

nie. Ek is dankbaar vir al die goeie tye saam en soos ons weet kom alle goeie dinge tot 'n einde.

Lief vir julle tot weersiens.

Heneko Henko

Trane loop nou vrylik oor sy wange wanneer hy in sy geestesoog sien hoe Andrea die nota

lees: hartgebroke en geskok. Henko vou die doodstyding versigtig op en bêre dit in sy bosak. Dit is

maar eenmaal wat dit is. Só is die lewe. Tydelik. Alles gaan net aan. Is dit sy skuld? Hy druil. Staan

dan traag op en kyk vir oulaas verdwaas om hom rond voordat hy die toeganklikste wandelpad na

die afgeleë laagwaterhoutbruggie diep in die woud kies – want dáár is dit heerlik soel tussen die

swamme en mos op die dooie boomstompe, paddastoele, waterstrome en groen sprietgras,

spoelklippe en vissies in die helder poele.

Presies die tipe plek waar 'n afgematte gees lafenis en loutering kan vind.

***

Hy tref Andrea vooroor geboë op haar knieë in die meenthuis se agtererf aan waar sy met 'n geel

tuinvurkie meedoënloos tussen die helderkleurige vygies spit – en al dra sy 'n sonbril kan hy aan die

pofferigheid van haar wange sien sy het gehuil.

Henko sien haar asof ná jare se afwesigheid. “Ek is só jammer, Andrea ... verdomp, ek moes
jou gebel het. Jammer hieroor. Ek het 'n hoofpyn gehad ... iets daarvoor gedrink en toe tussen die

bome aan die slaap geraak.” Hy klap selfbewus teen sy mosbevlekte jeans en hemp en stap haastig

nader. “Jy weet mos anderkant ... daar anderkant die brug.”

Andrea kyk verras op. Momenteel oorbluf – oënskynlik onbewus van sy terugkeer. “O nee-

nee ... ek het jou nog nie terug verwag nie. Ek weet mos hoe jy droomverlore raak daar in die woud.

Jy moet dit geniet. Altyd bly geniet.” Sy steun orent, laat die vurkie verflens in die bedding val en

trek haar styf teen hom vas. “Henko, ek gaan eerlik wees, ek beleef nie my beste dag nie. Ek is ...

knieserig. Ja, dit is die regte woord. Knieserig. 'n Regte ou trut.” Sy glimlag aangedaan. “Verskoon

my, maar ek het vroeër as beplan 'n bottel wyn oopgemaak en het reeds 'n paar spritzers agter die

blad.” Sy skud haar kop. “Die stres het my vandag sommer vroeg beetgepak. Maar ... voel jy darem

beter?”

Hy glimlag verlig. “Ja, ag wat, dis als oukei. Ek weet presies waarvan jy praat.” Hy raak

liefderyk aan haar wang en kyk haar waarderend aan. “Ek belowe jou. Dis goed ... só goed om jou

weer te sien.”

Andrea frons uit die veld geslaan, maar glimlag net gelate.

Hy merk die hartseer trek om haar mond en die skadupoele in haar blou oë agter die donker

lense.

“Ons moet gesels my dierbare man.” Andrea gee 'n treetjie terug en takseer hom afstandelik.

“Kom ons gaan stort dan lekgotla ons in die eetkamer waar dit koeler is.” Sy stof haar knieë af. “En

luister,” sê sy skewekop: “Ons ken mekaar al dertig jaar. Vandag gaan ek nie met jou doekies

omdraai nie. Ek is galbitter. En sommer oor alles.”

Henko se wenkbroue lig onseker. “Dit klink gewigtig. Het ek 'n prokureur nodig?”

“Kan jy dan nog een bekostig?” grinnik sy droogweg en druk met beide handpalms agter op

haar laerug. “Eina, lumbaal vyf en ses. Ouderdom is nie vir sissies nie, nè.”

“Kahunamassering,” stel hy voor. “Later. Ná die lekgotla.”


“Ja. Dankie.”

Hy vou sy regterarm styf om Andrea se skouers, soen haar klam slaap en saam slenter hulle

die koel voorhuis binne.

Dit is beter dat sy nie weet nie, redeneer hy. Henko het gedink dit staan groot op sy voorkop

geskryf: PATEET. Selfs te sleg om sy selfdood te verwesenlik. Sy volte face. Beneweld en tranerig

al die pad kuslangs met die N2 terug Mosselbaai toe na sy vrou wat van g'n sout of water weet nie.

En tog, ten spyte van die onseker toekoms voel hy heimlik verlig. Dankbaar om nog te leef. Daar in

die skemerlig van George Botaniese Tuin het hy met gespitse ore geluister, niemand hoor aankom

nie en vir oulaas hoopvol na sy foonskerm gekyk. Toe het hy die plastieksak met bewende vingers

sorgsaam oor sy kop getrek en die strop om sy keel voel wurg. Steeds was daar geen wonderwerk

nie.

Hy het gehuiwer...

Toe pak 'n onbeskryflike angs vir die onbekende hom beet en skarrel hy druipstert kar toe en

terug na die veilige wêreld van Andrea se arms.

Sy moenie weet nie, besluit hy.

Sy speel Andrea Bocceli se Cinema-CD en reageer nie op die ligsinnige gesprek wat hy van stapel

probeer stuur nie. Sy verstel die blinding, neem plegtig oorkant hom plaas en lê haar hande langs

mekaar op die tafelblad neer. Kyk hom vierkant in die oë, formeel: “Weet jy dat ons skaars genoeg

geld oorhet om twee maande lank ons verpligtinge...”

As hy haar wil onderbreek, lig sy haar regterpalm ferm na voor.

“Henko, wag. Laat ek klaar praat. Onthou, jy is nie my berader nie, jy is my man. Ek stel nie

langer belang in wat ek veronderstel is om te sê nie. Vandag vertel ek vir jou kaalkop my waarheid.

Hierdie diskoers verlang net een vereiste en dít is die waarheid. Ek praat oop kaarte, truth or dare,

onthou jy nog?”
Hy knik instemmend en laat sy blik mismoedig sak voor hy afwagtend opkyk. “Oukei, ek

gaan vir ons wyn skink. Praat jy gerus, ek luister aandagtig. Ek is die ene ore.”

Haar vingerpunte trommel 'n woedende sarsie oor die ebbehout en hy kyk verras om as hy

haar hoor snik – en tog is haar gesig emosieloos, 'n toe boek.

Alles stigtelik.

“In vino veritas,” sê hy. “Ons het twee jaar lank soos konings geleef. Daarop drink ek.”

Sy wag geduldig tot hy klaar skink en ophou wriemel.

“M'm. Ek het vanoggend iets in die koerant gelees, Henko. Iets wat 'n dominees geskryf het

en ek het mooi daaroor nagedink. En laat ek jou vertel, ha! dit is alles bog. Kamtige goeie nuus. In

die Skrif, volgens haar, skryf Paulus in Efesiërs God is ryk aan jammerhartigheid. Ons kan blykaar

nie met God onderhandel om te kry wat ons wil hê nie. In Mattheus leer Jesus ons blykbaar dat ons

nie beloftes en teenprestasies aan God kan maak nie. En toe besef ek later in my blomtuin tydens 'n

oomblik van helderheid maar my alla maggies elkeen is aan haarself oorgelewer.”

Hy kyk haar stip aan.

Andrea teug diep aan die sauvignon blanc, smak haar lippe en sug swaarmoedig. “Alles

dogma.”

Is die vogtigheid in sy oë trane? wonder sy.

Hy knik sonder om kapsie te maak.

As hy steeds niks sê nie, vervolg sy: “Ek het nie langer lus om só te sukkel nie, Henko, my

man. Asof daar iets edel aan die gewroet is. Ek is moeg daarvan om op te staan en dit is moord en

doodslag, rugkrappery en kaderontplooiing, selfsug en selfbeheptheid en die wêreld stuur op 'n

ramp af terwyl ek veronderstel is om te glo ek moet alles ter wille van my sieleheil verduur terwyl

ons uitgebuit word. Ek is niemand se slaaf nie.”

“O.” Henko hou sy glas skuins teen die lig. “Jy het altyd Dostoyevsky aangehaal: Pain and
suffering are always inevitable for a large intelligence and a deep heart.”

“Ja-ja. O ja! Ek onthou. Maar daar is perke, nè? Kyk, ek het my graag verbeel ek is

virtuoos.” Sy proe aan die wyn en buig haar stemtoon, die intonasie oordadig prekerig: “Man is not

the master of destiny, but a wooden doll that is strung on a string. Dit staan in die Mahabharata.

Strooipop sal jy wees tot in lengte van dae. As ons dit toelaat,” mopper sy nurks. “Onthou net, ons

het alles verkoop en van nuuts af probeer. Kinderlik geglo. En? Jou praktyk is doodgebore want jy

kry nie 'n enkele verwysing nie en ek kry om die dood nie werk nie – hier te kort, daar te lank.

Covid-19 was die finale stok in die speke van ons migrasieplan en ons geld is so te sê op. Luister,

ek wil uit! Anderkant toe. Huis toe. Ek gaan nie krepeer nie. Verstaan jy mooi wat ek vir jou sê,

Henko Pelser? Kapiesj!”

Sy oë rek en hy giggel flietend ontsteld. Opreg geskok. “Nee, nie jy nie. Wag nou, Andrea.

Bedaar tog net.” Hy vlieg verontwaardig uit sy stoel en mik om iewers heen te loop, maar weet nie

waarheen nie en steek viervoet vas.

“Nee! Ek bedaar nie. Die ánder kant. Die einde. Finito. Finish en klaar, dis ek! Wil jy 'n

selfdoodpakt sluit, Henko Pelser? None will hinder and none be hindered on the journey to the

mountain of death! Vergesel jy my na die skimmeryk? Kom sit tog, my man, bedaar tog net, hoor

my perorasie aan.”

Die laaste wyn in haar glas glip oor haar onderlip. Haar wange gloei rooi.

Hy snork. “Te veel drama is bloot melodrama. Jou eie woorde. Luister net na al die teatrale

tierlantyntjies.”

Andrea glimlag liefies en skuif haar leë glas oor die houtblad vir hom aan. “Ons gaan saam

hier uit. Iewers by die see. Milatjie kom groet my in elk geval gereeld in my drome.”

Hy skud sy kop afwysend.

“Wat sjê jy?” Fyn rooi aartjies lê soos 'n spinnerak, onrusbarend oor die wit van haar oë.

“Oeps. As jy nie wil nie, dan gaan ek alleen.” Haar blou oë rus komkommerkoel in syne.
Onkreukbaar. “Ek nooi jou saam, Henko.”

Hy kan nie help om tog wrang te glimlag vir die melodramatiese swaai van haar regterhand

oor die oseaan nie. “Jy maak my bang as jy só raak. Toe nou. Môre voel jy weer anders.” Henko

vryf afgemete oor die baardstoppels onder sy ken en rakel byna by dat die groot stap Wes-Kaap toe

en emigrasie ook háár idee was. Sy vingers wring ineen. “Um ... luister Andrea, jy is uiteraard nie

die enigste een op aarde met selfdoodgedagtes nie. Ek begryp dit. Dit ís moeilike tye. Regtig, dit is.

Ek het begrip daarvoor.” Hy maak sag keel skoon. “Onthou een ding ... ek ... ek dink dit is

moeiliker gesê as gedaan. Die liggaam is geprogrammeer om te oorleef.”

Sy streel afwesig, ingedagte oor die glas se kristalsteel.

“Skaak,” sê hy afgemat.

'n Gemoedelike stilte maak haar tussen hulle tuis.

Andrea Bocceli vul die vakuum: “... floating, falling, sweet intoxication / touch me, trust me,

savour each sensation / let the dream begin, let your darker side give in / to the power of the music

that I write / the power of the music of the night ...”

“Impasse?” vra hy minute later.

Sy kyk op. “Nee. Moet asseblief nie kwaad wees nie, Henko. Vergun my my swanesang.

Daar is 'n exit-bag metode. Inert gas. Ek het aanlyn 'n gassilinder bestel met 'n pyp en reguleerder –

genoeg vir twee ... maar dit bly jou besluit. 'n Waardige dood. Hulle sê jy is binne sekondes

bewusteloos en dood binne vyf minute. Pynloos. Dit behoort Donderdag hier te wees. Per koerier.

Ek sal 'n brief skryf wat alles verduidelik.”

Gewoonlik irriteer dit haar grensloos as hy so senuagtig aan die maantjie van sy vingernaels

begin druk, maar sy laat hom begaan.

Henko sit ineengedoke oor sy glas, herkou haar woorde teen sy onderlip.

“Is jy van jou kop af!” ontplof hy dan meteens verergd. “Iets kan nog gebeur.” Van ver af
besef hy die valsheid daarvan, maar die woorde glip uit voor hy kan keer: “En wat van my?”

Sy lag skalks.

“Ewige utopis, wat as ek nie langer 'iets' wil hê nie? Net rus en vrede. Vandag bied ek jou

iets anders: toegang tot realititeit. Vergeet van feetjieland en die mirakel van engele met vlerke wat

die aarde gaan kom red. Gaan ons uiteindelik iewers in 'n tent sonder tande in Kaapstad plak? Besef

jy dat jy die die dood nie kan vryspring nie, maar wel kan kies hoe jy gaan.”

“Dutch courage,” mor hy en staar morbied in die niet.

“Nee ... eerder weloorwoë. O ja, en jy. Jy kan na jouself kyk. Sê jy nie altyd geluk lê binne

die self nie?” Sy lê haar hande oor mekaar. “Kan jy in alle eerlikheid vir my sê jy het selfdood nog

nooit oorweeg nie?”

Sy oë rek. “Nee. Dis selfsugtig,” verwyt hy bruusk.

“Is dit? Dis vroom van jou. Omdat jy dan nie jou sin kry nie. Ek twyfel.”

“Jy verromantiseer...” Hy snuif wrokkig. “Besef jy die liggaam het 'n natuurlike

oorlewingsdrang. Die wil om te leef is diep ingebed in die psige.”

Sy lig haar ken uitdagend.

Die tyd tik verby.

Hulle som mekaar in stilte op – kyk mekaar lank woordeloos vierkant in die oë.

Eindelik bied Henko sy oop regterhand uitgestrek oor die tafel aan. “Goed dan, ek sluit die

pakt met jou, Andrea Pelser, maar beloof asseblief in vadersnaam jy sal niks onverantwoordelik

aanvang voor ons nie alle opsies tot die laaste uitgeput het nie. Laat ons nie ligsinnig wees hieroor

nie.”

Sy lig haar glas weerbarstig omhoog: “Ek sweer op ons esprit de corps. The old world must

crumble. Awake, wind of dawn.”

“Prosit, saam tot die einde...”


***

None will hinder and none be hindered on the journey to the mountain of death. -- Chikamatsu
Monzaemon

The old world must crumble. Awake, wind of dawn! -- Alfred Döblin

The Music of The Night from the 'The Phantom of the Opera'

You might also like