You are on page 1of 352

LIEFDESREIS

Susan Olivier

LAPA Uitgewers
Pretoria
www.lapa.co.za
Ook deur Susan Olivier

Romanzas
*’n Stukkie perfeksie
*Fantasieman
*Vyfsterman
*Troukandidaat

*Slegs as e-boeke beskikbaar


Bod op ’n biljoenêr
Een
“Jy het wát?” Eva du Plessis staar verslae na haar persoonlike assistent,
Sheila Pretorius.
Sheila glimlag ingenome. “Ek het geweet ek gaan jou voete onder jou
uitslaan. Kan jy jou indink? Vicky Marconi wil van ons dienste gebruik
maak. Ek kan steeds nie ons geluk glo nie. Ek dag iemand maak ’n grap toe
sy my bel.”
Eva gaap haar assistent aan. Dis nie heeltemal wat sy verwag het om te
hoor nie, nie met die intrapslag ná ’n kort vakansie nie.
Sheila frons verward. “Wat is fout? Weet jy nie van wie ek praat nie? Jy
moes tog al van haar gehoor het, sy besit skoonheidsklinieke regoor die
wêreld en is een van die erfgename van die Marconi-biljoene. Haar pa was ’n
skatryk Italianer, ’n neef van die kroonprins van Italië. Sy koninklike familie
wou glo nie sy Suid-Afrikaanse vrou aanvaar nie, al het sy self uit ’n skatryk
familie gekom, en toe het hy en sy vrou hulle sak en pak in Suid-Afrika kom
vestig. Gelukkig het hy hom voor sy dood met sy familie versoen. Is dit nie
’n romantiese storie nie? En nou het ek die dogter ontmoet.” Sheila sug
opgewonde. “O, sy is beeldskoon, en so plat op die aarde. ’n Mens sou nooit
dink sy kom uit so ’n belangrike familie nie. Jy sal sien wanneer jy haar later
ontmoet.”
Eva druk haar vingerpunte teen haar slape waar ’n hewige hoofpyn begin
klop. “Ek weet presies van wie jy praat, en dis heeltemal buite die kwessie.
Ek stel nie belang om haar te help nie. Ek bedoel ... ek kan dit nie nou inpas
nie.” Eva probeer haar stem rustig hou. Sy wil nie haar skok en verwarring
vir haar assistent wys nie, maar sy vermoed dit is reeds te laat. Haar gesig
moet boekdele spreek.
Sheila hyg verontwaardig. “Is jy van jou trollie af, Eva? Vicky is nie
sommer net ’n alledaagse kliënt oor wie jy koeltjies besluit of jy wil help of
nie. Die vroumens ken nie die einde van haar skatte en kontakte nie. Ons kan
nie so ’n kans deur ons vingers laat glip nie.”
Eva tik ongeduldig met haar vingerpunte op haar lessenaar. Sheila ken ook
nie perke nie, maar dis nou die minste van haar probleme. Sy kan amper nie
glo wat sy hoor nie. Vicky wil van haar dienste gebruik maak? Dit maak nie
sin nie. Nie ná wat tussen haar en Nico gebeur het nie, nie ná die koue skouer
wat Eva haar telkemale gegee en wat gesorg het dat hulle kontak verloor nie.
Sy trek haar vingers benoud deur haar hare. Vicky se tydsberekening is
vrotsig. Sy het nie nou geraamtes wat uit haar kas klim nodig nie. Sy het
lankal die deur na die verlede toegemaak. Sy het ’n nuwe blaadjie omgeslaan.
Die werk stroom in, sy is suksesvol in haar beroep. ’n Mens kan amper sê sy
het haar lewe onder beheer. En nou dié ramspoedige nuus. Sy wil nie vir haar
skoonsuster werk nie.
Sy sug heimlik. Dis seker nie so erg soos dit op die oomblik voel nie.
Iewers moes hulle weer in mekaar vasloop, al beweeg hulle nie in dieselfde
sosiale kringe nie. Maar vir haar konsultasiewerk doen? Dit kan net nie
gebeur nie. “Ek is jammer, Sheila, maar ek kan haar nie help nie. My
dagboek is tjok-en-blok vol.”
Sheila skud haar kop beslis. “O nee. Jy is verkeerd. Ek het na jou dagboek
gekyk. Jy kan nog ’n projek inpas. Eva, ons moet skep terwyl ons kan. Jy sien
self hoe wisselvallig die ekonomie is. Oormôre is daar nie geld vir ons tipe
kundigheid nie, dan moet ons reeds ’n neseier hê. Jy kan op my staatmaak as
jy iewers vashaak.”
Eva staar vies na haar deurmekaar lessenaar. Dit lyk elke keer so wanneer
Sheila in haar kantoor gewerk het. Wanneer gaan Sheila dit in haar kop kry
dat Eva chaos om haar haat? Sy sluk haar skerp woorde weg en stoot die lêers
hoekig. Dit gee haar bewende hande ten minste iets om te doen terwyl sy
probeer fokus. Het Nico enigiets met die affêre te doen? En hoe gaan sy dit
uitvind? “Het julle ’n kontrak geteken?”
Sheila knik. “Ja ... en ek het gedink jy sal beïndruk wees.” Sy klink
teleurgesteld en Eva voel effens skuldig. Sy wil nie Sheila se entoesiasme
demp nie en sy wil juis hê haar personeel moet vir hulleself dink. Maar daar
is uitsonderings, en dié is een.
“Ek waardeer jou moeite, maar dis my finale besluit. Ek sal met Vicky
praat. Ek weet sy sal verstaan.”
Sheila frons agterdogtig. “Hoekom klink dit asof jy haar ken?”
Eva sug moedeloos. Dis seker nou of nooit. Iewers gaan die waarheid
uitkom en Sheila moet eerder haar weergawe hoor.
Iemand klop aan die deur en sy glimlag vriendelik toe sy Tom Cloete sien.
Sy het die aantreklike blondekopman leer ken toe sy op soek was na ’n
bekwame prokureur, maar hy het intussen ’n goeie vriend geword. Nou
arriveer hy op ’n geleë oomblik, want dit gee haar kans om tot verhaal te
kom. “Tom, kom in.”
“Hallo, Eva, ek het gehoop jy is hier. Jy het my nie laat weet jy is terug
nie.” Hy gee haar ’n piksoen op haar wang.
“Ek sou jou vanoggend geskakel het. Hoe gaan dit?”
“Stukke beter noudat jy terug is. Dit was ’n lang week sonder jou.” Sy
oorywerigheid maak haar effens ongemaklik. Hy is lankal gereed vir meer as
net vriendskap, maar sy kyk nog die kat uit die boom. Agtien maande was
meer as genoeg tyd om van Nico te vergeet, maar sy weet nie of sy uitgeknip
is vir die liefdespel nie. Daarvoor het sy haar vingers te lelik verbrand.
Sheila snork onbeïndruk. Sy is glad nie mal oor Tom nie en draai ook nie
doekies om nie. “Ek het slegte nuus vir jou. My baas het ’n skatryk man by
die see ontmoet en hulle trou oor ’n week.”
Hy kyk meerderwaardig na haar. “Het jy nie werk om te doen nie?”
Sheila lag spottend. “Ons is eintlik besig met ’n vergadering, dankie.”
“Wil jy sit?” vra Eva tegemoetkomend.
Hy strek hom op die besoekerstoel uit. “Net vir ’n kort rukkie. Ek is op pad
na ’n kliënt, maar wou eers groet.”
“Wil jy koffie drink? Sheila kan gou vir ons maak.” Dis een manier om ’n
ongemaklike situasie te vermy. Sy is nie lus vir die twee se gekarring nie.
“Dit sal lekker wees.”
Eva kyk vraend na Sheila en hoop sy vang die skimp. Sheila se aandag is
egter nie by haar nie, maar iewers agter haar. “Sheila?”
Sheila kyk half verbaas na haar. “Ekskuus, wat het jy gesê?”
“Kan jy vir ons koffie bring?” Eva draai om toe Sheila weer verby haar
kyk. “Wat vind jy so fassinerend?”
Sheila wys met haar vinger. “Kyk daardie motorfiets voor die boetiekhotel.
Het jy al ooit in jou lewe so ’n pragtige ding gesien?” Sy kyk opgewonde na
Eva. “En raai net wat kos dit?”
Eva lag. “Van wanneer af lyk ek soos ’n ekspert oor motorfietse?”
“’n Miljoen rand,” lig Sheila haar triomfantlik in.
Tom fluit deur sy tande en stap na die venster. “Blikskottel, jy is vir ’n
verandering reg. Dit is ’n ongelooflike masjien.”
Eva kyk verveeld na die motorfiets. Dis silwer met twee dik wiele. Niks
wat haar asem wegslaan nie. Party mense het ook meer geld as verstand.
“Hoe ken jy motorfietse?” wil sy van Sheila weet.
“Ek het met ’n ou uitgegaan wat motorfietse invoer. Die ou was dik van
die geld, jy moes sy huis sien. Die onderste vlak was ’n glasvertoonlokaal vir
sy motorfietsversameling. Hy het ook só een gehad.”
“Ek wil weer eendag vir my ’n motorfiets koop, maar natuurlik nie in so ’n
prysklas nie,” lig Tom hulle in.
Eva kyk verbaas na hom. Hy is nou nie haar idee van die tipiese biker nie.
Sy kan hom glad nie in ’n swart leerpak met dik leerstewels voorstel nie,
want hy is altyd foutloos geklee in ’n snyerspak en handgemaakte skoene.
Sheila beduie vir Eva. “Kyk na die twee wat afklim, hulle lyk soos modelle
in een of ander jappie-advertensie. Jy kan sommer sien hulle het geld.”
Eva kyk weer na buite. Die twee se rûe is na hulle gekeer. Die meisie maak
egter dadelik ’n indruk met haar lang blonde hare wat in ’n blink laag oor
haar skouers lê en haar wulpse lyfie wat deur die leerklere afgeëts word. Die
lang donkerkopman, met sy valhelm onder sy arm, stap na die hotelpersoneel
wat naderkom.
Eva se maagspiere trek saam. Iets lyk ontstellend bekend aan die man se
stap, loslit en gemaklik, asof hy die wêreld se tyd het, en nog erger, asof die
plek aan hom behoort. Sy ken iemand wat so lyk. En wat so loop. Sy tas na
haar bril. Kan dit hy wees? Voordat sy haar bril kan opsit, stap die twee by
die hotel in. Die kriewelrige gevoel bly egter by haar. Dis Sheila se skuld dat
sy nou spoke sien. Net omdat Vicky weer verskyn het, beteken nie
noodwendig dat Nico ook weer sy gesig gaan wys nie. Die boggerse
mansmens is seker iewers op ’n eksotiese eiland waar hy sy seiljag
vasgemeer het. Sy is skielik nie meer lus vir geselskap nie. “Tom, sal jy
omgee as ons op ’n ander tyd kuier?”
Hy staan teleurgesteld op. “Sien ek jou dan vanaand?”
Sy skud haar kop. “Ek glo nie, ek het te veel werk. Miskien later in die
week.”
Hy groet en stap uit. Eva kyk afwagtend na Sheila, maar sy bly sit en vra:
“Wat is fout? Een oomblik is jy alte liefies met hom, en dan skop jy hom
omtrent op sy agterent hier uit?”
Eva ontwyk haar blik. “Niks is fout nie. Ek het net baie werk.”
“Moenie dink jy gaan so maklik van my ontslae raak nie. Ons was juis
besig met ’n interessante onderwerp voor ons onderbreek is. Hoe ken jy vir
Vicky?”
Eva sug. “Sy is my skoonsuster.”
Sheila lag kliphard. “En ek dag jy is die enigste kind.”
“Ek is. Dis my man se suster.”
“Jou man? Het jy met iemand afgehaak sonder om my te nooi?” wil sy
spottend weet.
“Dit was voor jou tyd. Dinge het eenvoudig nie tussen ons gewerk nie, en
hy het uitgetrek. Ons het nie meer kontak nie. Ons is nie geskei nie, maar ek
sien myself ook nie meer as getroud nie.” Eva lig haar hand voordat Sheila
haar met vrae kan peper. “Ek wil nie verder hieroor gesels nie. Kry net vir
Vicky hier sodat ek met haar kan praat.”
Sheila sug gelate. “Sy sal tweeuur hier wees. Ons wou die fyner
besonderhede met jou uitklaar.”
“Dis goed. Is daar nog iets?”
“Nee, die res kan seker wag ...” Sheila huiwer en Eva kan omtrent hoor
hoe haar kop oortyd werk soos sy die jongste verwikkelinge prosesseer.
“Dankie, dis dan al. En Sheila, wat ek jou nou vertel het, bly tussen ons.”
Sheila knik en stap uit. Skielik verskyn haar kop om die deurkosyn. “As sy
jou skoonsuster is, beteken dit dat jy met Nico Marconi getroud is.”
Eva knik gelate.
Sheila stap weer in. “My liewe blik se emmer, jy is met een van die
gesogste vrygeselle in die wêreld getroud.” Sy staar in verwondering na Eva.
“En dit beteken hy is nie meer ’n vrygesel nie. Hoe op aarde het dit ’n geheim
gebly? Die paparazzi sou tog ’n groot gedoente daarvan gemaak het, of het ek
dit net gemis?”
“Ons het ons huwelik geheim gehou om onnodige aandag te vermy. Sheila,
ek het werk om te doen.”
Sy bly staan en kyk haar baas oorstelp aan. “Dit maak nie sin nie, jy tree
dan soos ’n ordinêre meisie op. Jy ry ’n ou karretjie, jy dra nie boetiekklere
nie en jy bly in ’n woonstel. Intussen is jy met ’n biljoenêr getroud. En ek dag
ek ken jou.” Kopskuddend stap sy uit.
Eva stap na die venster en staar na die hotel oorkant die straat. Miskien
moes sy Sheila vroeër vertel het, haar in haar vertroue geneem het. Maar hoe
meer mense weet, hoe moeiliker kan sy haar privaatheid beskerm. Sy wil ook
nie kort-kort aan haar verlede herinner word nie. Dit bly reeds ’n gesukkel
om Nico uit haar kop te hou, ’n man soos hy ignoreer jy nie sommer nie.
Vicky se optrede bekommer haar. Sy kan enige bestuurskonsultant kry,
hoekom juis háár kies? En sommerso uit die bloute. Wat voer sy in die mou?
En hoe pas Nico in die prentjie? Het sy haar verbeel nou-nou? Was dit hy
saam met die blondine?
Vasberade trek sy ’n lêer nader. Genoeg hiervan. Sy gaan nie oor nonsens
op hol raak nie. Sy sal met Vicky praat, die kontrak kanselleer en sommer
uitvind waar haar broer hom deesdae bevind. Dalk is dit ’n goeie tyd om weer
aan die skeisaak aandag te gee. Tot nou toe kon nie eens ’n privaat speurder
hom vastrek nie, maar miskien gaan haar geluk nou draai.

Eva se foon lui en sy kyk vinnig op haar horlosie. ’n Minuut voor twee,
Vicky is betyds. Sy hou daarvan.
“Mejuffrou Marconi is hier. Sy wag in die konferensiekamer,” lig die
ontvangsdame haar in.
“Is sy alleen?”
“Ja, verwag jy nog iemand?”
“Nee. Ek is nou daar.” Sy haal diep asem. Sy moet die gesprek met die
nodige finesse hanteer, ’n mens weet nooit wat Nico se ore bereik nie. Nie
dat sy meer omgee wat hy van haar dink nie. Hy is nou net haar vervreemde
man. Haar amperse eksman.
Vicky staan by die venster en uitstaar toe Eva instap. Haar hart ruk pynlik
in haar bors. Sy het gehoop sy kan ná al die tyd onverskillig staan teenoor die
Marconi’s, maar klaarblyklik werk dit nie so nie. Sy sien te veel van Nico in
sy suster. Hulle het dieselfde donker gelaatstrekke, swart krulhare en
donkergrys oë. Daar is net niks middelmatigs aan hulle nie. Dit het haar
destyds al ’n ruk geneem om aan hulle uitsonderlike voorkoms gewoond te
raak.
En dis nes sy gevrees het. Sy beeld skuif onmiddellik na vore. En die
herinneringe kom saam. Sy sug bewerig. Sy moet net bly vashou aan die
gedagte dat dit verby is tussen hulle. Hulle gaan skei en voel niks meer vir
mekaar nie.
Vicky draai om en vir ’n paar oomblikke heers ’n ongemaklike stilte
terwyl hulle na mekaar kyk. Dan stap Eva beslis nader. Hoe gouer sy dit agter
die rug kry, hoe beter vir haar gemoedsrus. “Vicky, hoe gaan dit met jou?”
Hulle het altyd goed oor die weg gekom. Sy het Vicky nooit blameer vir wat
verkeerd geloop het nie, maar sy wou ook nie daagliks aan haar vervreemde
man herinner word nie. Daarom het sy kontak met Vicky vermy.
Vicky glimlag breed. “Eva, dis wonderlik om jou weer te sien. Ek het
verlang na jou. Dis ’n skande dat ons kontak verloor het. Ek het gehoor jou
besigheid doen so goed en daarom wil ek hê jy moet my help.”
Eva glimlag genoeglik. Sekere dinge verander nooit, en Vicky is nog net
so entoesiasties en spontaan soos altyd. Sy beduie na die naaste stoel. “Sit
gerus. Wil jy iets drink?”
“Nee, dankie, ek is reg.”
Eva gaan sit langs haar. “Jammer ek was nie hier toe jy my gesoek het nie,
ek was vir ’n paar dae by die see. Ek sal jou ongelukkig nie kan help nie. My
program is propvol, maar ek kan jou die name van ander kundiges gee.”
Vicky skud haar kop heftig. “Nee, ek wil niemand anders hê nie. Ek wil
jou hê. Vreemdelinge gaan nie in my sake rondkrap nie.” Sy sug moedeloos.
“Jy het nie ’n idee in watse gemors ek is nie. Ek moet heeltyd van my erfgeld
in my onderneming stort en dit kan nie so aangaan nie. Ek moet darem iewers
’n wins begin toon, want die spa’s is tog heeltyd besig.” Sy kyk smekend na
Eva. “Ek weet regtig nie wat ek verkeerd doen nie. Dalk het ek te vinnig
uitgebrei, of miskien is my bestuurstyl verkeerd. Ek weet jy sal die
antwoorde hê, jy is mos ’n kundige om maatskappye se swakpunte uit te
snuffel en met oplossings vorendag te kom. Ek ...”
Eva onderbreek haar. “Vicky, soos ek gesê het, ek kan dit nie nou inpas
nie ...”
Daar is ’n sagte klop aan die deur en Betsie stap in. Eva kyk ontevrede na
haar. Haar ontvangsdame mag haar nie tydens ’n vergadering pla nie.
“Juffrou du Plessis, daar is ’n man by ontvangs ...”
“Sheila kan hom help.” Sy beduie na die deur, maar Betsie bly staan.
“Hy wil nie met haar praat nie, hy wil met jou praat.”
“Betsie, ek wil nie gesteur word nie. Sorteer dit tussen julle uit, asseblief.”
Steeds bly sy staan, en Eva kyk geskok na haar. Wat gaan deesdae by haar
kantoor aan? Sy was net ’n paar dae weg, en skielik word haar besluite
bevraagteken. Dis mos onaanvaarbaar.
“Gaan gerus. Ek kan wag.” Vicky glimlag toegeeflik.
Ongeduldig staan Eva op. Sy het seker nie veel van ’n keuse nie. “Ek is
nou terug.”
Betsie stap tevrede vooruit. Eva bekyk haarself terloops in die gangspieël
en trek onwillekeurig haar donkergrys baadjie reg. Sy lyk darem ’n bietjie
intimiderend en dit help gewoonlik as sy halsstarrige kliënte op hulle plek
moet sit. Vasberade stap sy die gang af, maar steek dan viervoet vas. Sy kyk
verdwaas na die mense in die ontvangslokaal. Koue sweet slaan oor haar lyf
uit en sy stut haar teen die muur om regop te bly. Dis nie sommer enige man
in haar ontvangs nie, dis háár man, haar vervreemde man, die man van wie sy
wil skei, en wat nou heel tuis lyk in haar ontvangslokaal.
Twee
Hy sit knus langs Sheila op die sofa. Haar assistent het ’n onnatuurlike blos
op haar wange en haar blou oë skitter van opgewondenheid terwyl sy
uitbundig lag. Betsie staan aan sy regterkant, effens vooroor gebuig, asof sy
sy aandag opslurp. Hulle sien haar nie eens raak nie.
Eva se blik beweeg onwillig na hom. Die oomblik was onafwendbaar.
Iewers moes hulle mekaar weer ontmoet, mekaar weer in die oë kyk, ou
kwessies opdiep, tot ’n vergelyk kom oor die toekoms. Sy het haar hierop
voorberei, en tog voel sy ontredder. Magteloos. Nie gereed nie. Swak en
uitgelewer. Vol emosies wat sy nie wil hê nie. Dis mos nie hoe dit moet wees
nie. Hy mag dit nie aan haar doen nie. Agtien maande is lank, oorgenoeg tyd
om van hom te vergeet, om hom uit haar hart te dryf, om emosionele afstand
te kry. Tog is sy nou allesbehalwe onemosioneel.
Miskien sou dit makliker gewees het as hy nie so ongelooflik aantreklik
was en nie so ’n onweerstaanbare uitwerking op mense gehad het nie. Op
háár gehad het nie. Sy kan sy uitwerking op haar personeel sien. Sy het geglo
teen dié tyd is sy opgewasse daarteen, maar heeltemal teen haar sin, wil sy
ook soos Betsie en Sheila net na hom staar. Met sy lang lyf in sy swart
bikerklere, sy modieuse stoppelbaard en onmodieuse lang hare, lyk hy soos
iemand uit ’n seerowerfliek. ’n Baie sexy seerower. Johnny Depp sal nie kan
kers vashou by hom nie. Sy voorkoms het haar destyds met die eerste
ontmoeting omgedop. Dit mag nie weer gebeur nie. Sy het haar skoolgeld
betaal. Sy weet nou van beter, ’n verhouding vereis meer as net fisieke
aantrekking. Dié het hulle in oormaat gehad, maar die belangrikste
bestanddele het kortgekom.
Sy maak keelskoon. Almal draai na haar, maar haar blik bly vasgenael op
hom. Sy wil sy reaksie sien, sy moet weet wat in sy kop aangaan. Sy wil weet
hoekom hy skielik sy gesig hier wys, juis die dag wat Vicky ook hier is. Sy
wil weet wat hulle in die mou voer. Gespanne hou sy hom dop. Hy staan lui
op en gee ’n tree of wat in haar rigting. Sy donkergrys oë beweeg langsaam
oor haar. Hy kyk na haar asof hy haar nog nooit vantevore gesien het nie. Dis
amper ’n sensuele kyk. En terselfdertyd besitlik. Waar kom dit vandaan? Sy
hoop sy verbeel haar. Sy is nie meer sy vrou nie, en hoe gouer hy dit in sy
kop kry, hoe beter.
Ontevrede kyk sy na hom. Waar is sy blondine? Nou weet sy hy wás die
man by die hotel, want hy het nie eens die moeite gedoen om te verklee nie.
Sy stewels smeek vir ’n bietjie politoer, sy leerbaadjie het beter dae geken en
sy bos krulhare is vanoggend laas gekam. Maar dit verbaas haar nie. Nico
doen nooit die verwagte nie, en sy optrede is by uitstek eksentriek. Hy sou
maklik in jeans by ’n formele funksie opdaag, en dan was dit nie lank nie of
sy pelle het sy voorbeeld gevolg. Almal was mal oor hom, deels omdat hy
sulke onvoorspelbare en opwindende geselskap was. Dit het haar tot in haar
perfeksionistiese kleintoontjie gegrief.
Lank staar hulle na mekaar. Sy soek die regte woorde. Sy het baie om te
sê, maar waar begin ’n mens ná amper twee jaar van niks sien of hoor nie?
Begin sy met beskuldigings en verwyte wat spruit uit maande se pyn en
vernedering? Nee, definitief nie. Sy het vrede gemaak. Sy het tyd gehad om
alles te verwerk. En tog voel dit soos gister toe harde woorde tussen hulle
geval het. Toe sy hom van onbetroubaarheid en doelloosheid beskuldig het,
en hy haar toegesnou het dat sy selfsugtig en selfgesentreerd is. Wat soek hy
hier? Nou, ná al die maande.
Hy buig sy kop en verbaas sien sy hoe sy lippe naderbeweeg. Betyds draai
sy haar gesig weg en sy lippe vee sag oor haar wang. Sy asem die reuk van sy
bekende houterige naskeermiddel in en haar ingewande gaan aan die bewe.
Sy trek haar asem skerp in en tree benoud weg. Hy lig sy kop, en sy oë is
skielik onstuimige donker poele.
“Nico.” Sy hou haar stem onbelangstellend en probeer haar emosies onder
beheer kry. Dis oor en verby tussen hulle, en hy moet uit die staanspoor die
boodskap kry.
“Hallo, my Eva.” Sy stem is warm en strelend, amper so intiem soos ’n
aanraking. Hoendervleis slaan oor haar lyf uit en onwillekeurig kruis sy haar
arms voor haar bors. “Ek hoor Vicky is hier. Kan ons gesels?”
Sy kyk agterdogtig na hom. “Hoekom?”
“Ons kan praat wanneer ons by Vicky is.”
Sy frons ontevrede. Al waaroor sy wil praat, is hulle skeisaak, voor hy
weer sy goed vat en padgee. Maar sy wil ook weet wat hulle plannetjies is.
Dit kan nie net toevallig wees dat hulle albei hier opdaag nie. “Sy is in my
konferensiekamer.”
Sy blondine kom uit die kleedkamer gestap. Eva kyk kil na haar. Die kind
is bloedjonk, nie ’n dag ouer as twintig nie. Wat besiel Nico? Hy is seker ’n
dekade ouer as sy.
Nico stel haar voor. “Deidre, dis my vrou, Eva. Eva, my niggie, Deidre.”
Sy probeer ongeërg wees. Dit skeel haar min hoe hy sy lewe leef, maar
hoekom gee hy voor dis sy niggie? Sy is darem nie onder ’n kalkoen
uitgebroei nie. Sy familie is almal donkerkoppe en sy dag sy het almal
ontmoet. Sy sê egter niks en knik net toe die meisie vriendelik groet. Sy het
nie verwag hy moet selibaat lewe nie, en hy moet maar kuier met wie hy wil.
Vir alle praktiese doeleindes is hulle geskei, net ’n stukkie papier moet dit
amptelik maak. Maar sy sal verkies om nie sy aanhangsels te ontmoet nie.
“Sal ons by Vicky aansluit?”
Hy bly staan. “Deidre wil graag ’n paar kledingstukke koop, maar sy ken
nie die omgewing nie. Kan iemand haar dalk gou rondvat?”
“Ek sal.”
Eva gaap Sheila aan. Is dit Sheila wat so pas aangebied het om die meisie
te vergesel? Sy is dan die een wat alewig verkondig sy verdien nie ’n vet
salaris om onbeduidende takies te verrig nie. Eva se oë vernou. En hoekom is
die boonste knopies van haar bloes los? Netnou was dit tot by haar keel
toegeknoop. Eva lig haar ken vasberade. Sy sal moet kophou, aangesien haar
personeel besig is om die kluts heeltemal kwyt te raak. “Sheila het nie nou
tyd nie, sy het te veel werk.”
Sheila skud haar kop beslis. “Glad nie, ek stap graag saam.”
Nico haal ’n rol note uit sy binnesak. “Ek hoop dis genoeg. Deidre het my
selnommer, sy kan my bel as julle nog nodig het.”
Eva bekyk hom ongelowig. Vrygewige neef. Wie dink hy lei hy om die
bos? Miskien vir Sheila, want sy lyk asof sy Kersvader ontmoet het, en met
’n vriendelike wuif stap sy en Deidre uit.
Nico kyk vraend na haar. “Ons kan maar gaan.”
Sy stap voor, oorbewus van sy lang gestalte agter haar. Sy weet sy lyk
goed, en sy kan nie help om selfsugtige vreugde uit die gedagte te put nie. Sy
het gewig verloor en haar lang bruin hare is nou in ’n kort, modieuse styl
gesny. In haar elegante snyerspakkie met ’n wit bloes, sykouse en blinkswart
hoëhakskoene lyk sy soos die bekwame sakevrou wat sy is. Hy moet sien sy
het nie in sak en as bly sit nadat hy uitgestap het nie.
In die konferensiekamer gil Vicky opgewonde en vlieg in Nico se arms.
Eva kyk weg. Dit lyk nie asof Vicky hom verwag het nie, maar dit kan tog
ook nie die eerste keer in agtien maande wees wat sy hom sien nie. Hy het
dalk nie sy voete hier gesit nie, haar privaat speurder het dit bevestig, maar
daar is baie ander plekke waar hulle kon ontmoet.
Sy loer oor haar skouer. Vicky se kop rus teen Nico se skouer en hy praat
saggies met haar. Die twee is baie lief vir mekaar. Vicky was verlore toe hy
weg is. Sy het Eva elke dag gebel om oor sy doen en late uit te vis. Eva het
ewe min geweet, maar sy wou dit nie erken nie. Sy wou ook nie oor hom
praat nie. Hy het haar gelos, en dis oor en uit tussen hulle. Vicky moes tussen
die lyne gelees het, want sy het later ophou bel. Eva was verlig. En tot ’n
mate hartseer, maar dit was nog ’n knaende pyn wat mettertyd vervaag het.
Vicky haal ’n sneesdoekie uit en vee oor haar wange. “Hoekom het jy ons
nie laat weet jy kom nie? Hoe lank is jy al hier?”
Hy glimlag skeef. “Ek wou dit as ’n verrassing hou. Ek het vanoggend
gekom.”
“Ek moet dadelik ’n verwelkomingspartytjie reël.” Sy draai opgewonde na
Eva. “Sal ons dit sommer by julle blyplek hou?”
Nico lig sy hande. “Hokaai, ons moet eers ’n ander saak afhandel. Ek dink
nie ons moet Eva met ons familieprobleme opsaal nie. Ek sal kyk wat is fout
met jou onderneming.”
Eva staar oopmond na hom. Wat gaan nou aan? Wil hy Vicky keer om
saam met haar te werk? Dink hy sy kan dit nie doen nie? Dink hy hý kan dit
beter doen? Hy was te lank weg, want hy het nie die vaagste benul wat in
haar lewe aangaan nie. Sy het nie net die meestersgraad voltooi waarmee sy
besig was toe sy hom ontmoet het nie, sy het ook ’n lang lys tevrede kliënte
bymekaargemaak, en boonop is daar baie nuwes wat tou staan om van haar
dienste gebruik te maak. Sy het naam gemaak, soos sy altyd wou. Sy is nie
meer die groentjie wat ’n vastrapplek op die suksesleer soek nie, sy staan nou
bo-aan die leer. Sy is nie meer die onseker meisie wat hy geken het nie, sy is
die vrou wat sy nog altyd wou wees – suksesvol, onafhanklik en gefokus.
Vicky skud haar kop. “Ons het reeds ’n kontrak gesluit. Ek wil hê Eva
moet my help. En hoe weet jy van my probleme?”
Hy glimlag skelm. “Ek het my informante.” Hy raak weer ernstig. “Ek kan
jou ook help.” Eva herken die besliste uitdrukking op sy gesig en sy weet
Vicky sal op die ou end ingee. Soos vele ander kere. Hy kry mos altyd sy sin.
Sy self is dalk die enigste persoon wat hom nog ooit teëgestaan het.
Vicky skud haar kop. “En as ek weer my oë uitvee, neem jy oor. Dit is my
verantwoordelikheid en my foute en ek wil dit op my manier uitsorteer.”
“Oukei, jy doen dit op jou manier, maar ek gaan steeds hand bysit.”
Vicky lag opgewonde. “Dis ’n wonderlike idee. Dan kan ons drie lekker
saamwerk.”
Eva kners haar tande. Wat is so lekker daaraan?
Hy kyk skielik na haar. “Eva lyk nie beïndruk nie. Wil jy eerder kop
uittrek?”
Sy ontmoet sy blik sekuur. Oor haar dooie liggaam, so maklik maak sy dit
nie vir hom nie. “Vicky is reg, ons het ’n kontrak waarby ons moet hou.”
Tevrede klap Vicky hande. “Dan is dit afgehandel. Ek sal vir ons ’n
vergadering reël. Sommer daar by my, dan kan julle sien hoe my kantore nou
lyk en my personeel ontmoet.” Sy vat haar handsak en haak by Nico in.
“Kom, ons moet iewers gaan gesels. Ons het baie om oor te praat. Ek wil
weet waar jy was nadat ons saam in Griekeland gekuier het. Wat is jou
planne nou? Ek hoop jy is permanent terug.” Sy kyk verbaas na Eva toe sy
hulle nie volg nie. “En nou? Kom jy nie saam nie?”
Sy skud haar kop. “Jammer, ek het baie werk. Miskien ’n ander keer.”
Vicky sug teleurgesteld. “Agge nee, dit gaan nie so lekker wees sonder jou
nie.” Verbaas kyk sy na die sneesdoekie wat uit haar hand val. “O gits, ek het
amper vergeet, ek lyk seker soos ’n spook met my gesmeerde maskara. Sal
julle my gou verskoon, ek wil my weer mooi maak. En julle twee wil seker
groet.”
Toe sy uit is, stap Nico stadig nader. Eva retireer nie, hoewel sy hom nie so
naby haar wil hê nie.
“Ek wou dit al vroeër sê, maar dit was ’n bietjie moeilik met al die mense
om ons. Dis goed om jou weer te sien, Eva.” Hy kyk weer na haar asof sy die
begeerlikste vrou op aarde is.
Sy kan nie haar ore of oë glo nie. Wat verstaan hy nie? Het hy vergeet van
hulle onophoudelike argumente die laaste paar weke van hulle saamwees?
Het hy vergeet hy is die een wat uitgestap het, hulle huis verlaat het? Hy
behoort te weet sy wil skei.
Die onverwagte hitte wat deur haar lyf spoel toe sy warm blik weer oor
haar beweeg, gaan nie ’n verskil maak nie. Sy verwag net een ding van hom,
en dis ’n egskeiding. “Wat doen jy hier?”
Hy moes die vyandigheid in haar stem gehoor het, want hy kyk ’n ruk stil
na haar. “Vicky het my nodig.”
Sy kan glad nie haar momentele teleurstelling verstaan nie. Sy het tog nie
verwag hy is hier vir haar nie. Waar was jy toe ék jou nodig gehad het? wil sy
hom vra, maar dit sal klink of sy nog omgee, en sy gee nie meer om nie.
“Wanneer kan ons praat?”
“Ons praat mos nou.”
Sy frons geïrriteerd. “Alleen. Vicky kan enige oomblik hier instap.”
Hy kom staan amper teen haar, en die manlike reuk van leer en sy
naskeermiddel is byna bedwelmend. “Wat het jy in gedagte?”
Haar mond val amper oop van verontwaardiging. Die arrogante
mansmens! Dink hy sy kan hom nie weerstaan nie? “Jy weet baie goed dis
nie wat ek bedoel nie.”
Hy grinnik tevrede. “Regtig? Ek kan sweer ek het begeerte in jou oë
gesien. Of dalk is dit net my verbeelding?” Sy stem is laag en diep. Hy lig sy
hand en raak saggies met sy duim aan haar wang. Sy aanraking skok deur
haar. Sy sukkel om asem te haal en haar gedagtes is eienaardig leeg. Sy moet
wegbeweeg, maar dis asof hy haar soos ’n magneet by hom hou, net met die
amperse kontak.
Vicky stap in. “Kan ons maar gaan?”
Nico laat sak sy hand. Hulle groet, en stap uit. Eva staar hulle agterna, haar
arms styf om haar bewende lyf. Dit voel asof sy ’n hou in die maag gekry het.
Die herontmoeting het nie eintlik verloop soos beplan nie. Sy was glad nie in
beheer nie.
Drie
Eva leun ’n oomblik teen haar voordeur. Wat ’n dag! Een wat te veel
verrassings ingehou het. Nico is sak en pak terug, en haar kop is suf gedink
oor hoe om die situasie nou te hanteer. Maar sy is reg vir hom. Sy weet wat
sy moet doen, hy gaan haar nie weer onkant betrap nie. Tom moet nou werk
maak van die skeidokumente, en voor Nico sy oë kan uitvee, is hulle geskei.
Tevrede stap sy deur haar sitkamer terwyl sy haar omgewing bewonder.
Sheila weet nie haar “woonstel” is eintlik ’n superluukse en ultramoderne
dakwoonstel van twee vlakke met verskeie ruim vertrekke op die boonste
vloer van ’n luukse hotel nie. ’n Plek wat net ’n biljoenêr kan bekostig. Nie
wat sy kan bekostig nie.
Sy wou na ’n ander woonstel trek toe hy haar los. Dis dalk ’n flou
verskoning, maar sy kon nêrens ’n plek vind wat by haar smaak en sak pas
nie. En dit was haar hawe toe Nico die mat onder haar voete uitgeruk het. Sy
het al sy meubels en kunswerke gestoor en die plek haar eie probeer maak.
Hy het haar ten minste dié stukkie luuksheid geskuld.
Dinge gaan seker nou verander. Hy sal seker sy woonplek wil kom opeis.
Haar bloes knel om haar nek en sy begin dit losknoop. Sy sal later daaroor
stres, nou smag sy na ’n glas yskoue lemoensap en gemaklike klere.
Sy glo nie haar personeel het vir die res van die middag ’n steek werk
verrig nie, hulle het net heeltyd oor Nico gepraat. En tot hulle spyt wou sy nie
saamspeel nie, en het al die vrae oor hom geïgnoreer.
Sy struikel en kyk vies na die swart stewel onder haar voete. Nie hare nie,
en heeltemal uit plek in haar perfek-netjiese woonstel. Sy weet wie die
eienaar moet wees, en vir ’n kort oomblik oorweeg sy om die stewel in die
asblik te smyt. Dit het haar nog altyd teen die mure uitgedryf as hy goed so
laat rondlê.
Sy haal diep asem. Stadig in en uit. Nico is iewers in die woonstel. Hoe het
hy ingekom? Sy het die kaartkodes verander en die sekuriteitswag mag
niemand sonder haar uitdruklike toestemming inlaat nie. Sy vind die ander
stewel onder ’n eetkamerstoel en sit albei netjies in die hoek. Verontwaardig
kyk sy na die bosse pienk rose op die eetkamertafel, genoeg om ’n hotel te
versier. Sy skud haar kop. Dink hy regtig haar gunstelingblom gaan haar
sagmaak? Sy het slegte nuus vir hom. Dinge het ietwat verander, niks is meer
so eenvoudig nie. Hulle gaan nou volgens haar reëls optree, geskenkies en
mooi woordjies is nie meer gepas nie.
Sy hoor ’n stoel op die kombuisteëls skuur en stap soontoe. Hy sit op een
van haar pikante blou kombuisstoeltjies, ’n glas vars uitgedrukte lemoensap
in sy een hand en ’n gefrommelde koerant in sy ander hand. ’n Bottel van
haar duur rooiwyn staan eenkant op die tafel, iets wat veronderstel was om ’n
versamelstuk te word. Sy leerbaadjie lê slordig op die wit marmertoonbank.
Hy kyk afgetrokke op toe sy instap.
“Wat doen jy hier?” Sy vat die koerant uit sy hand, stryk die kreukels uit
en vou dit netjies op. Sy sit dit buite sy bereik neer.
“Ek maak my tuis in my huis.” Hy vat ’n lang sluk lemoensap.
“Hoe het jy ingekom? Ek het die kodes verander.” Sy hang sy baadjie oor
’n kombuisstoel.
Hy staan op en strek hom gemaklik uit. Sy swart T-hemp span oor sy sterk
bolyf. Hy trek gereeld swart aan, veral vandat sy hom vertel het hoe sexy hy
daarin lyk. Hoekom nou daaraan dink? Sy moet eerder fokus op sy swart
kous met die gaatjie daarin. Haar eksentrieke biljoenêr. Hy besit sweerlik ’n
klerefabriek, maar hy is heel gemaklik om so rond te loop.
“Die sekuriteitswag het my ingelaat. Gelukkig onthou hy my, anders sou
ek in die hotel moes wag. Wat my bui beslis nie sou goed doen nie.” Hy vat
nog ’n sluk van die sap. “Hoe was jou dag?”
Sy glo dit nie. Hy tree op asof hulle ’n gelukkig getroude paartjie is wat
aan die einde van die dag nuus oor hulle werk uitruil. Verstaan hy nie meer
die taal nie? Moet sy dit in haar gebroke Italiaans vir hom uitspel? “Jy kan
nie hier bly nie. Hoekom gaan bly jy nie in die hotel nie? Of selfs by Vicky?”
Hy maak ’n laai oop. “Dit klink dalk kleinlik, maar ek sê weer, die plek
behoort aan my. Hoekom sal ek nie hier bly nie?”
“Jy het uitgetrek, die plek is nou myne. Jy het dit vir my as ’n trougeskenk
gegee.” Dit was in ’n lawwe oomblik, skaars twee weke ná hulle troue. Sy
was uit die staanspoor mal oor sy woonplek en het hom geterg dat sy die
woonstel bo hom sou kies. Toe sê hy die plek is hare, net omdat sy met hom
getrou het. Sy het hom behoorlik bedank. Onwillekeurig vryf sy oor haar
onderlyf waar ’n warm krieweling pla.
Hy draai om en sy blik haak op haar bolyf vas. Agterdogtig kyk sy af, en
trek haar asem skerp in. Sy het skoon vergeet, haar bloes is oopgeknoop.
Haar wit kantbra bedek skaars haar oormatige rondings. Sy voel hoe sy rooi
word. Haar ongemak is eindelik dom, hy is tog nie ’n vreemdeling nie, maar
nogtans vlieg haar vingers om die knope toe te maak.
Hy sug oordrewe. “Waar is die goeie ou dae toe jy nie so preuts was nie?
Kan ek help met die knope?” Sy hoor die terg in sy stem en beloon hom met
’n vuil kyk.
Hy lag onboetvaardig. “Ek sien jy het heelwat dinge verander. Waar is my
gunstelinggemakstoele?”
Sy ignoreer sy vraag, daar sal wel later tyd wees om te bieg. Nie dat sy
hoef skuldig te voel nie. “Jy moet padgee. Ons kan nie ’n huis deel nie.”
Hy haal sy skouers op. “Ek is jammer, maar ek bly hier. Jy moet dan maar
vir jou ’n ander plekkie kry.”
Ergerlik vou sy haar arms voor haar bors. “Vir hoe lank is jy van plan om
hier rond te hang?”
Hy begin weer in die laai rondkrap en haal ’n kurktrekker uit. “Ek weet
nog nie.”
“Ek hoop lank genoeg om die skeisaak af te handel.”
Hy kyk skerp na haar. “Wie sê ek wil skei?”
Sy sug gefrustreerd. Hy moenie hom slim hou nie. “Het jy dalk jou
ultimatum vergeet? Ek moes tussen jou en my werk kies, en toe kies ek, en jy
stap uit en ek hoor nie ’n woord van jou nie.”
“Jy het my verkeerd verstaan. Ek het nooit die woord skei gebruik nie.
Hoekom sal ek skei? Die huidige reëling pas my soos ’n handskoen. Jy laat
my toe om te kom en gaan soos wat ek wil.” Hy lig sy linkerhand waar sy
trouring is. “En as ek vroumense teëkom wat my nie wil uitlos nie, wys ek
hulle net my ring. ’n Man kan mos nie vir ’n beter opset vra nie.”
Sy swaai haar arms moedeloos. Hy is moedswillig in die oortreffende trap,
en opportunisties, en die hemel weet wat nog. “Maar ék wil ’n egskeiding
hê.”
Hy draai sy rug op haar en maak die bottel wyn oop. “Wil jy weer trou?”
Sy stem toon geen emosie nie.
Sy kyk peinsend na sy breë rug. Wat as sy ja sê? Sal dit hom pla? Sy het
gedink hy gaan oor sy voete val in sy haas om van haar ontslae te raak, maar
nou swaai hy die situasie om. Hy het miskien nie die woord skei gesê nie,
maar sy optrede was nie verwarrend nie. Sy moes kies. En sy het haar werk
gekies. Want sy het geweet dis haar grootste sekerheid. Haar enigste
sekerheid. Hulle het te veel verskil. Later te veel baklei. Sy gaan egter nie
lieg nie, al kan sy die argument so wen. “Miskien nie nou nie, maar dalk
later.”
Hy draai stadig om. “Ons moet hieroor praat. Ek ...” Die sekuriteitsfoon
lui. Hy kyk vraend na haar. “Verwag jy iemand?”
Vies skud sy haar kop. Wie pla nou? Sy wil die gepratery agter die rug kry.
Sy wag al ’n ewigheid vir die geleentheid.
Hy stap uit, en kort daarna is hy terug. “Tom Cloete is hier. Kan hulle hom
opstuur?”
Sy knik verbaas. Tom daag nooit ongenooid by haar op nie. Hy ken die
reëls. Hoekom wil hy juis vanaand stroomop wees? Dit sal sy verdiende loon
wees as sy hom nie inlaat nie. Dit sal ook slim wees. Hier wag ’n plofbare
situasie, en die arme man weet dit nie eens nie. Maar dalk is sy
teenwoordigheid net wat Nico nodig het om sy gedagtes in die rigting van ’n
egskeiding te stuur. Hy wil nie meer getroud wees nie, sy weet dit, en dis
dalk net die hupstootjie wat hy nodig het, wanneer hy haar saam met ’n ander
man sien.
Gespanne wag sy Tom by die deur in. Hy gee haar egter nie kans om ’n
woord te sê voordat hy haar behoorlik van haar voete af soen nie. Sonder
enige effek druk sy teen sy bors, oorbewus van hulle toeskouer, maar Tom
staan rotsvas. Wat besiel die man? Weet hy Nico is terug en soek hy ’n
reaksie? Sy verwerp die gedagte. Tom is nie ’n kansvatter nie, hy sal nie so
dom wees nie. Sy staan stokstyf en wag dat hy haar klaar soen.
Uiteindelik lig hy sy kop. “Eva, ek het te veel na jou verlang. Die week
was hel sonder jou. Ek kon nie wegbly nie.” Hy kyk skielik verby haar en sy
gesig val. “O, jy het reeds geselskap.”
Met ’n sug draai sy om, beduie na Nico wat hulle strak dophou. “Tom,
ontmoet Nico, my vervreemde man. Nico, dis Tom Cloete.”
Hulle meet mekaar eers met die oë. Dan glimlag Nico en steek sy hand uit.
Eva kyk verras na hom. Dit het sy nie verwag nie.
“My vrou het my nie van jou vertel nie, maar ek sal dit nie teen haar hou
nie. Ek is altyd bly om haar vriende te ontmoet.” Hy vat Tom aan die
skouers. “Kom ons stap na die patio, ek was juis besig om rooiwyn te skink.
Kan ons vir jou iets aanbied?”
“’n Bier sal lekker wees, as daar is.” Tom kyk smekend na Eva. Sy haal
haar skouers op. Sy het nie ’n benul wat nou aangaan nie. Nico hou haar ook
aan die raai.
“Ek is seker my vrou sal ’n bier hê. Kuier jy gereeld hier?”
“Ja. Ek hoop nie jy gee om ...” Tom maak ongemaklik keelskoon en word
terselfdertyd rooi in sy gesig.
Nico glimlag gemaklik. “Glad nie. Ek is bly as iemand ’n oog oor my vrou
hou as ek nie hier is nie. Ons het ’n oop verhouding – ek het my vriende, en
sy het hare.”
Eva kners haar tande. Sy gaan hom met iets gooi as hy nog ’n keer op
daardie besitlike manier na haar as sy vrou verwys.
Tom stotter voort. “Dis nie heeltemal wat sy ...” Hy kyk weer na haar,
maar sy kry nie kans om hom uit sy penarie te help nie. Nico is klaarblyklik
nog ver van klaar met sy gasvrye vertoning. “Eva, sal jy vir ons drankies en
eetgoed bring?” Hy wag nie vir haar antwoord nie, stap net by die glasdeur
uit met Tom kort op sy hakke.
Ongemaklik stap sy na die kombuis. Nico voer definitief iets in die mou,
hy maak die pap te dik aan. Sy het darem ’n titseltjie woede verwag, maar hy
wys niks van sy normale opvlieënde geaardheid nie. Dis dalk beter so. Sy wil
nie ’n vuisgeveg hê nie, sy wou net haar punt bewys.
Met die drankies en ’n bakkie olywe op ’n skinkbord, sluit sy by hulle aan.
Die twee mans staan rustig en gesels. Die uitsig op die patio slaan gereeld
haar asem weg. So ver as wat sy kan kyk, sien sy stadsliggies. Hoog in die
hemel sit ’n volmaan, die aand is helder en die sterre duidelik sigbaar. Sy
vlug hierheen wanneer dinge rof gaan in haar lewe. Haar probleme lyk bitter
klein in die teenwoordigheid van sulke grootse skoonheid.
Tom vat die skinkbord by haar. “Eva, kan jy dit glo, dis Nico se motorfiets
wat ons vanoggend gesien het. Hy gee nie om as ek dit leen nie. Ek is juis lus
vir ’n trippie Laeveld toe. Jy wil nie dalk saamkom nie?”
Nico lag hard en Tom kyk verbaas na hom.
“Jy ken haar nog sleg. My Evatjie hou nie van vinnige goed nie. Ek moes
haar smeek om in my sportmotor te ry.”
Eva kyk ontevrede na hom. Hy is reg, maar sy byt eerder haar tong af voor
sy dit erken. “Ek is nie jou Evatjie nie, en ek kan seker self besluit waarvoor
ek lus is.” Sy draai na Tom. “Ons kan later praat, alles hang af van hoe besig
ek is.”
Nico kyk simpatiek na Tom. “Verwag nog ’n sak vol verskonings. Dit is
maar net die begin daarvan.”
Sy deurboor hom behoorlik met haar kyk en hy lag spottend. “Het jy nog
jou groen sedan?”
“Ja, ek het,” lig sy hom selfvoldaan in. Hy wou dit met een of ander duur
sportmotortjie vervang, maar sy wou nie toegee nie. Sy is doodgelukkig met
haar motor.
Tom lig sy glas na haar. “Dis hoekom ek en jy kliek. Ons doen dinge op
dieselfde manier. Ek mors ook nie geld nie.” Hy kyk amper verskonend na
Nico. “Ek is ook ’n ryk man, maar ek dink altyd twee keer voor ek geld op
iets uitgee.”
Nico haal sy skouers op. “Ek verskil ongelukkig drasties van julle. Vra
maar vir my vroulief, ek geniet my geld en mors dit gereeld op allerhande
duur speelgoed.” Hy glimlag skeef. “Natuurlik tot die alewige ergernis van
my spaarsamige vrou.” Nico teug aan sy wyn terwyl sy blik ondersoekend
oor hulle beweeg. Eva sien die bespiegeling in sy blik. Hy wonder oor haar
en Tom. Tevrede glimlag sy.
“Hoe het julle ontmoet?” wil hy terstond weet.
“By my kantoor. Sy het ’n goeie egskeidingsprokureur gesoek en ek is een
van die bestes in die land.” Toe hy besef wat hy so pas gesê het, kyk Tom
vlugtig na haar.
Sy skud haar kop teleurgesteld. Was dit nou nodig? Hy is veronderstel om
die uitgeslape prokureur te wees. Sy sug heimlik. Wat het sy verwag toe sy
hom binnelaat? Iewers sou sy beroep ter sprake kom. Soms dink sy nie verder
as wat haar neus lank is nie.
“Werklik? Ek is beïndruk.” En dis al wat Nico sê. Eva gaap hom behoorlik
aan. Hoekom is hy so kalm? Sy het verwag hy gaan ontplof. Waar is haar
vurige Italianer wat skeef kyk vir enige man wat net naby haar kom?
Nico sit sy glas neer. “Wil jy die motorfiets sien? Ons kan gou ondertoe
stap, dis in een van die garages op die grondvloer.”
Tom spring regop. “Ek sal graag die fiets van naby wil sien.” Hy kyk
opgewonde na haar, maar sy skud haar kop.
“Ek wil nog ’n bietjie werk, gaan gerus.”
Nadenkend staar sy hulle agterna. Nico is onvoorspelbaar, sy moet dit
onthou. Hy tree nie soos die res van hulle binne bepaalde norme en
verwagtinge op nie. ’n Ander man sou Tom uitgeboender het, veral as hy
weet die man gaan sy vrou se skeisaak hanteer. En as sy eerlik met haarself
is, het sy darem ’n bietjie jaloesie verwag. Vies skud sy haar kop. Nou trek
haar redenasie skeef. Sy wil skei. Hy ook, sy weet dit. Hy tree dalk
moedswillig op, maar hy sal wel later ’n ander deuntjie sing. Daar is niks wat
hulle bymekaar hou nie en te veel verskille wat hulle uitmekaar hou. Hoekom
sal Tom hom omkrap? Hy het self ’n nuwe vriendin. Sy het geen rede om
afgehaal te voel nie.
Sy stap na haar kamer. Sy gaan nie vir Tom wag of nog werk doen nie. Sy
is doodmoeg en wil eintlik net in die bed kom. Môre wag ’n berg werk vir
haar en sy het elke greintjie energie nodig om te fokus. Sy kry haar nagklere
in die aantrekkamer, sit dit netjies op die bed neer en stap badkamer toe waar
sy in die stort klim. Haar stywe spiere ontspan stelselmatig soos die warm
water oor haar spoel. Môre is nog ’n dag, en dan kan sy op haar aksieplan
fokus, die een wat Nico uit haar lewe gaan kry. Maar eers uit haar woonplek.
Sy klim uit, vou ’n handdoek om haar lyf en tel ’n ander een op om haar
hare droog te vryf. Sy vlieg om toe sy ’n geluid hoor. Deur die stoom sien sy
Nico op die badkamerbankie sit. Sy arms is gemaklik voor sy bors gevou, sy
bene is lank voor hom uitgestrek en hy lyk asof hy elke oomblik van die
vertoning geniet. Sy ingenome glimlag bevestig dit. “Jammer, ek wou jou nie
skrikmaak nie.”
Haar oë rek van verbasing. “Wat dink jy doen jy hier?” wil sy in ’n skor
stem weet. Die handdoek om haar lyf glip uit haar bewende hand en sy keer
net betyds. “Jy kan nie hier inkom nie.”
Hy staan op, lig ’n paaiende hand. “Kalmeer, Evatjie, jy het geen rede om
soos ’n verskrikte maagd te kere te gaan nie. Ek het jou al kaal gesien, of het
jy vergeet?” Met ’n frons beduie hy na haar lyf. “Jy het gewig verloor. Ek het
dit vermoed toe ek jou in die kantoor sien, maar nou weet ek ek is reg. Was jy
siek? En hoekom het niemand my laat weet nie?”
“Nee, ek was nie siek nie,” lig sy hom verontwaardig in. Sy kan haar ore
nie glo nie. Sy het verwag hy gaan beïndruk wees met haar maer lyf, en nou
lyk dit asof hy kwaad is. Nie dat hy ooit gekla het oor haar mollige figuur nie,
dit was sy wat daarmee gepla was. En het hy dalk sonsteek opgedoen tydens
sy seevaart, want wie moes hom oor haar doen en late ingelig het? Sy het self
nie die vaagste benul gehad waar hy hom bevind nie.
Stadig streel sy oë oor haar en ’n ongevraagde hitte ontstaan in haar lyf.
Vervaard trek sy die handdoek stywer. O nee, dis nie hoe dit moet wees nie.
Dis nie hoe sy haar voorgestel het sy gaan voel nie. Die fisieke aantrekking is
steeds tussen hulle, sy kan dit nie ontken nie. Ondanks haar voorneme om
afstand tussen hulle te behou. Hulle gaan skei, sy moet leer koud staan teen
sy charisma. Sy is nie meer lief vir hom nie, dit beteken mos dat sy hom nie
meer begeer nie. In haar kop wil sy dit so eenvoudig hou.
“Gelukkig het jy nie oral gewig verloor nie.” Hy sê dit amper mymerend.
“Wat bedoel jy?” Die vraag kom onwillekeurig, alhoewel sy ’n baie goeie
idee het wat hy bedoel. Sy blik is op haar borste, wat nouliks deur die
handdoek bedek word. Sy sukkel om asem te haal en die toegestoomde
vertrek maak dit nog moeiliker. Sy beter hom hier uitkry, voor hy kop
verloor. Of dalk sy. En sy wil nie eens die gedagte bedink nie.
“Jy het darem nog genoeg rondings waar dit die meeste saak maak.” Sy
hand lig. Huiwer in die lug. Sy sluk. Haal bewerig asem. Haar borste is
skielik hard en swaar, smagtend na aanraking. Sý aanraking. “Jy sal dit nie
waag nie,” waarsku sy hom met ’n krakerige stem. Hy grinnik, en sy hand
sak.
“Wat soek jy, Nico?”
Hy glimlag lui. “Tom sê nag. Hy sal môre ’n draai by jou kantoor maak.”
Sy knik en wag dat hy wegstap. Hy bly egter staan, steek sy hande in sy
broeksakke. Spiere beweeg in sy boarms en sy T-hemp trek styf oor sy bors.
Sy kyk hom in die oë.
“Waar is al my goed? My bagasie kom eers môre en ek het klere nodig.”
Sy haal haar skouers op. “Ek het al jou goed weggegee.”
Hy staar geskok na haar. “Jy maak seker ’n grap?”
Sy sug gelate. Sy het dit oorweeg, sy wou so graag wraak neem nadat hy
haar gelos het. “Die klere het ek vir minderbevoorregtes gegee, die res van
jou goed is gestoor.” Sy stap verby hom na haar kamer. Hy volg haar.
“Waar kan ek slaap?”
Sy swaai om. “Net nie hier nie.”
Hy glimlag. “Dan gaan ek in elk geval nie slaap nie.” Hy wys na haar
nagklere op die bed. “Ek sien jy dra weer sulke betaamlike slaapklere, ek dag
ek het jou van dié slegte gewoonte genees. Waar is al jou kantgoedjies wat ek
gekoop het?”
Sy verwerdig haar nie eens om te antwoord nie, hou net haar kamerdeur
oop en wag dat hy uitstap. Sy weet sy lyk allesbehalwe gebiedend, nie terwyl
sy met een hand aan die handdoek klou nie, maar ten minste voel sy of sy
beheer probeer kry.
Hy beweeg nie, lyk net hoogs geamuseerd. “Jy weet natuurlik sulke
toegeknoopte goedjies terg ’n man amper netsoveel soos sexy nagkleertjies.”
“Dit verg nie veel om jou te terg nie.” Sy byt omtrent haar tong af. Hoe
kan sy so iets sê? Netnou dink hy sy geniet die situasie.
Hy glimlag onnutsig en sy donker oë vonkel warm. “En ek kan ook nie
onthou dat jy gekla het nie. Agtien maande is ’n lang tyd, my Eva. Ek slaap
in die kamer op die punt van die gang. As jy alleen voel, en dalk lus is vir ’n
bietjie warm geselskap, kan jy gerus agter my blad kom inkruip. Ek sal nie
kla nie.”
Sy lag skepties. “Dit gaan baie selfdissipline van my vra om nie aan my
wildste begeertes toe te gee nie, maar ek gaan tog my bes doen. En moenie
maak of jy heeltyd alleen geslaap het nie.”
Hy lag. “Jy klink jaloers, my Eva, en dit nadat ek so vriendelik was met
jou minnaar.”
Sy kyk hom vies aan. “Tom is nie my minnaar nie.”
“Ek is bly om dit te hoor. Ons is darem nog getroud. Lekker slaap, Eva.”
Hy stap nader en voor sy kan opsy staan, streel hy met sy vingers oor die vol
deinings van haar borste, net bokant die handdoek. Sy trek haar asem skerp in
en wil protesteer, maar sy het nie ’n stem nie. Hy glimlag ingenome en stap
weg. Sy klap die deur agter hom toe.
Vier
Die volgende oggend vind sy hom op die stoep. Hy leun teen die glasreling,
sy blik ver oor die stad. Sy baard is nog langer, sy hare deurmekaar, en die
gekreukelde kortbroekie wat hy aanhet, moes lankal ’n vloerlap gewees het.
Sy bors is kaal. Heeltemal kaal tot by sy naeltjie. Sy haal diep asem, trek haar
skouers terug. Sy het ’n spesmaas die tydelike saamblyery gaan nie so lekker
op haar gestel werk nie. Hy moet uit, of anders moet sy padgee.
Sy het nie sulke komplikasies in haar lewe nodig nie, nie terwyl die
einddoel in sig is nie. Sy moet begin vrede maak met die gedagte dat sy ’n
normale vrou is, en hy ’n ongelooflike sexy man. Almal het fisieke behoeftes,
en sy is nie anders as enige ander vrou nie. Dit is nogal vir haar vreemd dat
Tom haar nog nooit fisiek aangetrek het nie, hy is tog ’n aantreklike man.
Vandat sy Nico ken, kan sy nie haar hande van hom afhou nie. En nou lyk dit
of dinge nie verander het nie. Dié swakpuntjie gaan egter nie in haar pad
staan om te skei nie. ’n Suksesvolle huwelik vra baie meer as ’n kafoefelry.
Hy glimlag vriendelik, maar sy kyk nors na hom. Dit lyk nie of hy
gesukkel het om te slaap nie, nie soos sy nie. Sy kon nie ontspan nie, nie
terwyl sy weet hy is in die ander kamer nie. Heelnag het sy oor hulle tyd
saam gedink, en bly wonder hoekom iets so idillies op die ou end so
verskriklik opgemors kon raak. En keer op keer het sy by dieselfde antwoord
uitgekom: Hulle pas eenvoudig nie bymekaar nie.
Hy kyk kopskuddend na haar snyerspakkie. “Klaar aangetrek vir werk en
die son is nog nie eens behoorlik op nie. Wanneer gaan jy ’n lewe kry?”
Sy lig haar ken. Hy soek mos nou moeilikheid, en soos hy sê, die dag het
nog nie eens begin nie. Hoe kan sy ooit wonder wat fout gegaan het? “Ek het
’n baie lekker lewe, dankie.”
Hy lig die bakkie in sy hand. “Is dit al wat hier is vir ontbyt? Droë
muesli?”
“Daar is melk in die spens.”
“Daai boks langlewe-goed? Nee, dankie. En ek bedoel behoorlike kos, iets
soos spek en eiers.”
Sy probeer om nie te gril nie. “Muesli is gesond en vullend.”
“Gras is ook gesond en vullend as jy na skape kyk, maar ek het nog nie
homo sapiens dit sien eet nie. En jy het ook in ’n stadium lekker aan sulke
kos weggelê.”
Sy stut haar hande tevrede teen haar dun middeltjie. “Lankal nie meer nie.
Ek het gesonder eetgewoontes aangeleer. En niks keer jou om iets uit die
hotelkombuis te bestel nie.” Sy glimlag beterweterig. “Jy moet maar versigtig
wees, mans van jou ouderdom kan nie onophoudelik vet inneem sonder om
dit om die lyf te wys nie. Ek het nog nie van ’n mooi blondine gehoor wat ’n
boepens sexy vind nie.”
Hy grinnik en vryf tevrede oor sy blokkiesmaag. “Ek sal jou waarskuwing
ter harte neem, en Deidre is familie, as sy dalk die blondine is na wie jy
verwys. Sy was saam met my op die seiljag omdat sy graag die wêreld wou
sien, en haar ouers het my gevra om ’n oog oor haar te hou. Sy bly nou by
Vicky en gaan by een van haar skoonheidsklinieke werk.” Hy beduie met sy
lepel na haar. “Ten minste kafoefel ek nie met die prokureur wat my skeisaak
moet hanteer nie.”
Sy trek haar asem geskok in. “Ek kafoefel met niemand nie! Ek het jou
gesê, ek en Tom is net vriende.”
Hy glimlag skepties. “Ek het tyd gehad om daaroor te dink, en ek het seker
tred verloor as goeie vriende mekaar deesdae oopmond soen.”
Haar bloeddruk spring nog ’n paar grade. “Dit was nie ’n oopmondsoen
nie, en as jy mooi gekyk het, sou jy gesien het ek soen hom nie terug nie.”
“Dis net ’n masochis wat mooi kyk as sy vrou ’n ander man soen.”
“Ek is nie meer jou vrou nie, en dit maak nie saak wie ek soen of nie soen
nie.” Sy moet eerder die onderwerp verander, voor sy hom te lyf gaan. “Wat
is jou planne vir die dag?”
“Ek wil ’n paar meubelstukke aanskaf. Jy het my huis in ’n vertoonlokaal
omskep en dit inspireer my glad nie. Geen normale man kan op ’n stywerug
groen gedoente rugby kyk nie.”
Sy pers haar lippe opmekaar. Dit klink of hy ook ’n slegte nag agter die
rug het en dit op haar wil uithaal. “Dis die nuutste mode en dit pas aan by die
ambiance wat die moderne glasontwerp skep.”
“Ja, en moenie alles glo wat die binnehuisontwerpers jou probeer wysmaak
nie. Ek soek ’n huis, ’n plek waar ek my skoene kan uitskop en gemaklik
wees. Jy het my woonplek in ’n koue mausoleum verander.”
“Ons plek. En dis my smaak.”
“As ons skei, word dit weer my plek.” Hy sug. “Kom saam met my? Ons
kan saam besluit wat by jou meubels pas. Ek wil nie my smaak op jou
afdwing nie.”
Sy weet dis ’n vredeoffer, maar sy kan dit nie aanvaar nie. Al wil sy graag.
Maar dis nie so eenvoudig nie, hulle kan nie soos ’n gelukkig getroude
paartjie saam inkopies doen nie. Hulle is lankal verby daardie punt. “Ek het
baie werk.”
Sy gesig vertrek asof hy aan ’n suurlemoen proe. “Sjoe, hoekom klink dit
so bekend? Nee, Nico, jy kan nie jou vriende oornooi nie, ek moet werk, en
julle raas te veel. Nee, ons kan nie vir ’n stoute naweek weggaan nie, ek moet
werk. En natuurlik my groot gunsteling, nee, ek kan nie op die wittebrood
gaan wat reeds ses maande uitgestel is nie, want ek het te veel werk, en my
eksamens lê voor.”
“En toe gaan jy alleen.” Sy kyk strak voor haar uit en gaan sit op die punt
van die bank. Die gedagte krap haar steeds om.
Sy mond vertrek smalend. “My naam moet in die rekordboeke geskryf
word. Ek is vir seker die enigste persoon in die wêreld wat manalleen op ’n
wittebrood van agtien maande was.” Hy sit die bordjie neer en tuur weer oor
die stad. “Maak jy darem tyd vir Tom?”
Sy ignoreer sy vraag. Tom is nie hier ter sprake nie. “Jy het my nie my
sukses gegun nie. Jy was altyd negatief oor my werk en my studies.”
Hy kyk kwaai na haar. “Nee, nou maak jy ’n hengse fout. Ek het jou alles
in die wêreld gegun, ’n suksesvolle beroep, al die grade wat jy agter jou naam
wil hê, wat ook al, maar ek het ook gehoop ek bly jou eerste prioriteit. Ek
was so naïef om te dink dis hoe dit in ’n huwelik werk, maar ek het op die
harde manier geleer dat dit nie in jou wêreldjie so werk nie.”
“Jy praat darem maklik, maar dis hoe dit mos is as ’n mens sakke vol geld
het. Dan kan ’n mens mos nie verstaan wat die armgatte motiveer nie. Jy het
nooit sonder kos gaan slaap omdat jou ma die geld op drank uitgegee het nie.
Dit was nie vir jou nodig om jou agterent in kroeë af te werk om vir jou
studies te betaal nie. Ek wou nog iets bereik toe ek jou destyds ontmoet het.
Dit vra harde werk, en miskien het ek jou in die proses afgeskeep, maar ek
het geglo jy sal verstaan hoe belangrik dit vir my is. Net jou ondersteuning,
dit was al wat ek gevra het, maar jy kon dít nie eens vir my gee nie.”
“Jy bly my geld voor my kop gooi, asof dit my skuld is dat ek ryk geërf
het. Jy hou mos van die martelaarsrol. Ek is trots op jou sukses, maar daar is
iets wat my pla. Wat het dit jou in die sak gebring?” Hy wys na die woonstel.
“Dié onpersoonlike plek met sy prim en proper meubels? En eintlik behoort
die plek aan jou slapgat man. Jy ry steeds in jou ou karretjie rond, en jy werk
sonder ophou. Niks hiervan maak my vreeslik opgewonde nie. Geniet jy ooit
jou sogenaamde sukses, want dit lyk nie vir my so nie.”
Sy staan op. Sy hoef nie na sy beterweterige mening te luister nie, sy het
haar lewe ingerig soos sy dit wil hê. Sy ís gelukkig. “Ek moet kantoor toe. Ek
is reeds laat.”
Hy sug. “Niks het verander nie. Nie jy of jou omstandighede nie. En jy wil
steeds nie na my opinie luister nie. So gaan ons nooit tot ’n vergelyk kom
nie.” Hy skud sy kop moedeloos. “Waar is my sportmotor? Dis nie in die
garage nie. Vir watter welsynorganisasie het jy dit gegee?”
“Jou suster het dit geleen en ’n paar weke later afgeskryf. Het sy jou nie
vertel nie?”
“Nee, en dit maak nie saak nie. Ek sal ’n ander een koop.” Sy wil wegstap,
maar sy volgende woorde laat haar huiwer. “Kan ek vanaand vir ons iets
maak om te eet? Hoe laat is jy by die huis?”
Sy aanbod is aanloklik, en amper aanvaar sy dit. Hy is ’n wonderlike kok,
en met ’n paar eenvoudige bestanddele kan hy ’n fees optower. Iets in haar
smag na die dae toe hulle lang ure by ’n etenstafel gekuier het, oor alles en
niks gesels het. Dit was wonderlike dae en sy het elke oomblik gekoester,
miskien omdat sy toe al geweet het dis geleende tyd, dit kan nie vir ewig
aanhou nie. En nogtans was die aarde onder haar uitgeruk toe hy sak en pak
weg is. “Nee, dankie, ek werk laat. Ek kry gewoonlik iets by die kafeteria.”
Sy hoor haar kil stem, sien die teleurstelling in sy oë. En sy verhard haar hart.
Dis al wat haar gaan help om heel hierdeur te kom.
“Eva, het jy my ooit liefgehad?”
Sy staar geskok na hom. “Hoe kan jy so iets vra?”
Hy sug. “Omdat ek nie seker is nie. Omdat ek dit nie werklik gevoel het
nie. Jy het die woorde gesê, maar dit het soms leeg geklink, asof jy iets uiter
wat jy nie bedoel nie. Hoe lank ná ons ontmoeting het ek jou oortuig om in
die hof te trou? Twee weke?”
“Tien dae.” Dit was die vinnigste besluit van haar lewe. En in daardie
stadium die maklikste. Dit was die wonderlikste ding wat met haar kon
gebeur. Die aantreklikste man op aarde wou met haar trou, sy kon dit nie glo
nie. Sy sou enigiets doen om sy vrou te word, deel te wees van sy
opwindende lewe. Hoe kan hy oor haar liefde twyfel? Sy was ontsaglik lief
vir hom. Sy het dit in haar optrede gewys, want sy is nie impulsief nie, veral
nie wat belangrike sake betref nie. Maar sonder om twee keer te dink, het sy
hom by die hof ontmoet en haar vir altyd aan ’n amperse vreemdeling
verbind.
Haar droomwêreld moes egter gou plek maak vir die koue realiteit. Sy kon
nie by sy manier van lewe aanpas nie, van niksdoen en partytjie hou nie, van
heeldag gholf speel of by vriende boer nie. Sy kon nie geld op sinnelose goed
verkwis nie. Sy het sy vriende en familie ontmoet, en besef sy pas nie in nie.
Sy is nie so mooi, of so ryk of so sjarmant soos hulle nie. Sy het begin twyfel.
Die meeste in haarself. Sy het gewonder hoe lank voor sy verliefdheid
oorwaai, sy het die tekens gesien in sy irritasie oor haar besluite, en oor haar
optrede. Sy het hom nie blameer nie, sy was immers die teenpool van die tipe
vrou wat hom gewoonlik aantrek. Sy was ’n ordinêre, oorgewig meisie wat
op haar gelukkigste was by haar werk en tussen haar boeke.
En hy was hy, ’n opwindende en gesogte biljoenêr wat skoonhede om hom
vergader, wat deur die wêreld reis en meer wonings besit as wat sy pare
skoene het. Hy het ’n sosiale lewe gehad wat ander hom net kon beny. Net
nie sy nie. Sy het dit vir hom maklik gemaak om haar uit die pad te kry, deur
dinge in hulle verhouding moeilik te maak. En kort daarna het haar seepbel
gebars. ’n Skrale ses maande later het haar wêreld inmekaar getuimel, die dag
toe hy met sy rugsak uitgestap en sy nooit weer van hom gehoor het nie. Tot
nou toe.
Hy vryf moedeloos deur sy hare. “Ek kan steeds nie verstaan hoekom jy
met my getrou het nie. Dis seker my skuld, ek moes jou tyd gegee het om te
dink. Ons kon ongelukkig nie ons hande van mekaar afhou nie, en jy wou
niks weet van seks buite die huwelik nie. Toe oortuig ek jou om te trou. Ek
moes jou meer tyd gegee het.”
“Ek het geweet wat ek doen,” lig sy hom beslis in. Hy kan nie alles op sy
skouers neem nie. Sy het vir haarself gedink, dit was wat sy wou hê.
Hy skud sy kop. “Jy dink miskien so, maar ek stem nie saam nie. In die
begin was alles wonderlik, ons kon nie genoeg van mekaar kry nie, op alle
vlakke. En toe begin dinge verkeerd gaan. Ons lewenstyle pas nie, jy werk
heeltyd, ek speel heeltyd. Jy kon nie by my manier van dinge doen, aanpas
nie, ek moes heeltyd by jou aanpas, en ongelukkig het ek ’n bietjie moeg
geraak vir die speletjie. Dit was selfsugtig van my, maar ek wou my trots
beskerm. Ek het soos ’n swakkeling begin voel, deur heeltyd net toe te gee,
net om die vrede te bewaar.” Hy kyk strak na haar. “Ek klou seker aan iets
vas wat nie kan werk nie. Ek sal my prokureur vra om Tom te kontak. Ons
kan die skeisaak begin. Ek is jammer ek het jou lewe opgemors.” Hy haal
diep asem. “Ek sien jou later by Vicky se kantoor, sy het jou seker laat weet
van ons vergadering vanmiddag.” Hy stap weg en sy keer hom nie.
Want wat moet sy sê? Hy is in soveel opsigte reg. Aanpas? Nee, sy is nie
goed daarmee nie. Sy moes te veel in haar lewe aanpas. Sy moes voortdurend
by haar wispelturige ouers aanpas. By haar pa wat haar een keer ’n jaar kom
haal en dan gemaak het asof sy wêreld net om haar draai terwyl hy die res
van die tyd haar bestaan ignoreer. In haar tienerjare het hy nie meer opgedaag
nie. Later moes sy hoor hy en sy nuwe vrou het geëmigreer. Hy het nooit
weer kontak gemaak nie. En dan was daar haar ma wat omtrent elke ses
maande van werk en huis verander het, en sy was die een wat die grootste
aanpassing moes maak, elke keer ’n nuwe skool en nuwe maats. Om nie eens
van die drankmisbruik te praat nie.
Daarom is sy nie lus vir aanpas nie. In haar kop is dit ’n uitgemaakte saak.
En hoekom moet sy? Hy het haar op die ou end tog gelos. Nes sy verwag het.
Sy sak weer op die bank neer, druk met haar hand teen haar bors. Die
steekpyn wil nie weggaan nie. Sy trek haar asem diep in, blaas dit weer stadig
uit. Dit help gewoonlik om beheer te kry, om ’n oorhand oor haar emosies te
kry. Die oomblik is groot. Uiteindelik gaan sy haar lang begeerde egskeiding
kry. Sy moet bly wees. Sy moet fees vier. Hoekom voel sy dan so verpletter?
Vyf
Met ’n kritiese oog beskou Eva Vicky se hoofkantoor. Sjiek en modern, met
pastelkleurige mure waarvan die kleure herhaal word in die meubels. Dit
spreek van ’n subtiele rustigheid, soos sy sou verwag van ’n
skoonheidskliniek. Wat doen Vicky verkeerd? Sy kan nie wag om uit te vind
nie. Sy floreer op sulke uitdagings, om die groter prentjie stukkie vir stukkie
uitmekaar te haal, tot sy sien waar die probleme lê, en dan met oplossings
vorendag te kom.
Die projek het uitermate belangrik geword. Sy soek lankal ’n kans om
Nico te wys hoe goed sy met haar werk is, en nou is dit hier, en hy is hier, en
sy gaan dit gebruik. Sy gaan meer toegeeflik oor sy rol in die projek wees,
want sy weet hy sal nie tot die bittereinde betrokke bly nie. Dis nie hoe hy is
nie. Sy aandagspan is bitter kort. Hy raak vinnig verveeld.
Vicky groet haar opgewonde. “Ek is so bly jy en Nico gaan my help. Dit
gaan lekker wees om saam te werk.”
Eva probeer nie skepties reageer nie. Nico gaan nie van veel hulp wees nie,
maar solank hy onder haar voete uitbly, sal sy hom verdra.
Sy word aan ’n groep jong dames voorgestel. Eva is dadelik beïndruk met
hulle voorkoms. Sy hou van korporatiewe kleredrag. Almal is geklee in
vroulike tweestukke in kombinasies van ligblou en geel. Net Vicky het ’n
swart romp met ’n wit kantbloes aan, en soos altyd lyk sy pragtig. Sy verwag
nie dat die eienaar soos haar personeel lyk nie. Hulle stap na ’n ruim raadsaal.
“Waar is Nico?” Eva probeer ongeërg klink.
Vicky haal haar skouers op. “Ek weet nie, maar hy sal wel kom. Ek het
solank tee bestel. Ons drink ongelukkig net kruietee, ek hoop jy hou daarvan.
Ons gebruik dieselfde produkte wat ons vir ons kliënte aanbied. ’n Mens
moet in jou produkte glo. Wat dink jy?”
Eva knik. “Dis ’n gesonde beginsel. Het jy al die inligting wat Sheila
aangevra het, beskikbaar? Sy kan ongelukkig nie hier wees nie, sy het ’n
krisis by die huis.”
“Ja, dis hoekom my personeel hier is. Hulle is almal portefeuljebestuurders
en kan enige vrae beantwoord. Ek is nie heeltemal op hoogte van alles nie,
daar is te veel goed wat my aandag vra. Ons kan begin wanneer Nico hier is.”
Eva frons effens. Vicky se opmerking pla haar. Sy sien te veel kere hoe
personeel die situasie uitbuit wanneer ’n eienaar nie betrokke genoeg is nie.
Dit moet een van haar prioriteite word om Vicky se bestuursproses te ontleed.
Sy maak vinnig ’n aantekening in haar dagboek.
Toe iemand haar roep, stap Vicky uit. Eva trek die lywige lêer wat voor
haar lê, nader. Sy sal haar solank daarmee besig hou tot Nico opdaag. En sy
gaan nie geïrriteerd raak nie, al het sy ’n kleintjie dood aan mense wat haar
tyd mors. Hy behoort dit te weet.
Rondom haar kuier die dames gesellig, klaarblyklik min gepla oor die
tydverkwisting. Eva sluit haar af en konsentreer op die state voor haar.
Skielik bly almal stil en nuuskierig kyk Eva op. Almal se oë is op die deur
gerig, en sy kyk ook soontoe.
Nico en Vicky staan by die deuropening. Haar asem ruk en haar hart gee ’n
wilde skop. Sy hoor die opgewonde murmeling, sien die verstarde blikke.
Almal kyk na Nico, en sy hoor die kollektiewe sug van opwinding onder die
dames. Sy sit effens terug en hou hulle dop. Sy kan hulle meevoering
verstaan, maar nie noodwendig waardeer nie. Haar blik beweeg terug na
Nico, wat onbewus van die opgewonde kabaal wat hy veroorsaak, met sy
suster praat. Dis die effek wat hy op vroue het, en hy kom dit nie eens agter
nie. Hy het dit nog nooit agtergekom nie.
Die reaksie van die vroue steek haar dwars in die krop. Sy is nie jaloers
nie, maar nogtans skroei ’n besitlike gevoel deur haar. Heeltemal ongevraagd,
en heeltemal onvanpas. En daarom kan sy nie verstaan hoekom sy wil
opstaan om die kwylende jong dames te waarsku dat hy hare is nie, en dat
hulle dit nie eens moet oorweeg om hulle gemanikuurde handjies op hom te
lê nie. Van sy donker hare wat nou netjies kort gesny is en sy skoongeskeerde
gesig wat die sterk manlike lyne van sy gesig beklemtoon, tot sy manjifieke
lyf wat geklee is in ’n donkergrys strepiespak, ’n spierwit hemp en ’n
modieuse pers das, is hy hare.
Toe sy hom destyds op die hotelbalkon in Florence gesien het, het hy
onmiddellik haar aandag getrek. En gehou. Sy het nie verwag om so ’n
Adonis in lewende lywe te sien nie. Hy is die tipe man wat ’n mens net in
tydskrifte bewonder, terwyl jy weet hy is ver van jou eenvoudige lewetjie
verwyder. Sy het gehoop om ’n proeseltjie romanse in Italië te ervaar, sy het
beslis nie die man van haar drome daar verwag nie. Hy het na haar gekyk, en
vir een onbeskryflike, meesleurende oomblik was daar niemand anders in die
wêreld behalwe hy en sy nie.
Hy glimlag vriendelik vir sy bewonderende skare. “Jammer ek is laat,
dames. Ek moes eers ’n paar inkopies doen.”
“’n Man na my hart, een wat laat is omdat hy inkopies doen,” merk een
van die dames op, en almal lag. Net nie sy nie. En dit het niks uit te waai met
die goedkeurende kyk wat hy die selfversekerde meisie gee nie. Sy lag nie,
bloot omdat hy laat is. Vir geen ander rede nie.
Die voor op die wa meisie laat ook nie die kans deur haar vingers glip nie,
en nooi hom na die leë stoel langs haar. Hy gaan sit, en Eva kry ’n terloopse
kopknik. Hy kyk vraend na Vicky terwyl hy die lêer voor hom oopmaak.
“Kan ons wegval? Ek stel voor ons begin met ’n bekendstelling, en elkeen
dui aan wat haar rol hier is. Daarna sal ek kortliks die doel van die projek
skets, en dan kan Eva oorneem.”
Eva se ore slaan onmiddellik toe en sy probeer haar nie wip nie. Hy neem
sommer oor, terwyl hy die leek hier is. Wie se vergadering is dit hierdie? Wat
weet hy van fasilitering? Dis haar projek, maar dit lyk asof hy dit vergeet het.
Probeer seker al die mooi meisies beïndruk. Sy sal vinnig ’n stokkie hiervoor
moet steek, voor hy met die projek weghardloop en in sy onkunde die proses
laat ontspoor.
Maar dis nie net sy optrede wat haar vies maak nie, hoewel sy nie dadelik
haar vinger op meer kan lê nie. Dis nie soseer sy gedaanteverwisseling nie, sy
ken tog sy gesofistikeerde kant. Hy wissel sy voorkoms soos hy lus voel –
een dag trek hy soos ’n suksesvolle sakeman aan, en ’n paar dae later lyk hy
weer soos ’n plesiersoekende jappie, of selfs die tuinier wat nie tyd gehad het
om te skeer nie. Toe sy hom die eerste keer gesien het, het sy gedink hy is ’n
model. Hy dra sy klere met soveel gemak, dit lyk omtrent asof hy betaal word
om dit te doen.
Toe haar beurt aanbreek, stel sy haar kortliks voor. Nico skink vir hom tee
terwyl sy praat. Sy sien hoe hy frons toe sy haar nooiensvan gebruik.
En toe tref dit haar. Sy voel ’n koue klammigheid op haar vel uitslaan. Sy
weet wat is fout! Hy dra nie meer sy trouring nie! Daar is nou net ’n wit
streep waar sy ring was. Hoekom het hy dit afgehaal? Is dit ’n boodskap aan
alle hubare meisies dat hy nou weer beskikbaar is? Sy druk teen die krop van
haar maag waar die spiere in ’n knop saamtrek. Hoekom is sy so ontsteld? Sy
dra ook nie haar ring nie. Sy het dit afgehaal toe hy uitstap, en in haar woede
het sy dit oor die balkonreling gegooi. Later was sy bitter spyt oor haar
optrede, maar toe was dit te laat. Haar ring was weg. Haar gedrag was so
ontsaglik futiel, want hy kon dit nie eens sien nie. En haar leë ringvinger het
haar aanhoudend aan haar verlies herinner.
“Eva, kan jy dalk die dame se vraag beantwoord?” Nico se ongeduldige
stemtoon ruk haar terug na die werklikheid. Almal kyk afwagtend na haar en
sy begin bloos. Sy kom seker amateuragtig voor. Wat moet arme Vicky dink
nadat sy aangedring het op haar hulp? “Jammer, herhaal net weer die vraag.”
Hy kyk na die meisie langs hom. “Cynthia wil weet hoe jy die projek gaan
benader?”
Sy maak keelskoon, kry haar gedagtes in orde. “Gewoonlik ontleed ons
eers die feite, identifiseer die swakpunte en bepaal dan waar die
probleemareas lê. Soms stuur ons navorsers om saam met die personeel te
werk. Dis partykeer die enigste manier om agter te kom waar leemtes of
duplisering is. Dan maak ons aanbevelings, en indien nodig, help ons met die
implementering.”
Die meisie lyk baie geïnteresseerd. “Hoe lank vat so ’n projek?”
“So drie maande, selfs langer. Ek kan egter nie sê voordat ek die ontleding
gedoen het nie.”
Cynthia draai na Nico. “Gaan jy heeltyd help?”
Hy knik. “Ja, dit is die idee.”
Sy glimlag breed. “Dis goeie nuus. Jy moet gerus ons behandelings
probeer. Ons is ook vir die metroman ingerig.”
Eva sug innerlik. Dis dan waaroor die dametjie se opgewondenheid gaan,
nie oor die projek nie, maar oor Nico. Sy moes dit verwag het.
Hy glimlag skepties. “Ek sal dit in gedagte hou. Ek dink nie ek is die
tipiese metroman nie, maar ek het darem ’n massering of twee ondergaan toe
Vicky die plek begin het. Ek stel egter nie in ’n manikuur of
gesigbehandeling belang nie.”
“’n Gesigbehandeling sal net tydmors wees, ons produkte kan jou nie nog
aantrekliker maak nie,” lig Cynthia hom skalks in. “Laat my weet wanneer jy
kom, en ek sal sorg dat jy persoonlike aandag kry.”
Eva stik amper in die laaste slukkie van haar koue tee. Het sy nog nie van
die woord diskreet gehoor nie? Sy gaan nie die prentjie van die meisie wat
Nico onder hande neem, kop toe vat nie. Wat hy en sy in die toekoms beplan,
pla haar nie.
Nico glimlag net. “Kan ons nou na die state kyk?”
Eva luister nie meer nie. Haar ergernis lê haar kop vol. Sy kan sulke
onprofessionele optrede nie hanteer nie, en sy kan eenvoudig nie die gedagte
afskud nie. Hoekom moet sommige vrouens altyd hulle mansoekery in die
werkplek voortsit? Sy hou die interaksie tussen die twee dop, die manier
waarop die meisie heeltyd aan hom raak, die koketterige kykies wat sy hom
nou en dan gee, en teen die einde van die vergadering is sy reg om te ontplof.
“Het jy alles wat nodig is?” wil Vicky weet toe Nico die vergadering
afsluit en die personeel uitstap.
Sy knik, en probeer nie na Nico en die meisie kyk wat eenkant gesels nie.
“Ek het genoeg inligting om my span vir ’n ruk besig te hou. Ek moet terug
kantoor toe. Ek sien julle later.”
Sy kan nie vinnig genoeg wegkom nie. Sy moet herbesin. Dit voel of haar
lewe oornag in ’n groot deurmekaarspul verval het, of niks meer in plek is
nie, en niks meer sin maak nie. Sy is veronderstel om in die sewende hemel te
wees, want sy het mos nou wat sy wil hê. Hoekom voel sy dan so
omgesukkel? Sy moet haar gedagtes agtermekaar kry. Voor sy weer ’n gek
van haar maak.

Eva kou geïrriteerd aan haar pen se agterkant. Sy kan nie op haar werk
konsentreer nie en dit maak haar rasend. Sy is altyd gefokus, veral as sy
tonne werk het wat skree vir aandag. Sy kry egter nie die vergadering uit haar
kop nie. Dit was ’n totale fiasko. Sy het ’n swak indruk geskep en dit vreet
aan haar. Dis nie hoe sy dinge doen nie. Sy sal haar sokkies moet optrek,
want die veelseggende kyk wat Vicky haar ná die vergadering gegee het, was
genoeg. Sy wonder seker nou of sy die regte persoon gekies het. En is dit nie
ironies dat Nico soos die knap een lyk nie?
Sy kyk eers of haar deur toe is en sluit dan haar onderste lessenaarlaai oop.
Niemand mag weet wat sy hier wegsteek nie. Versigtig haal sy die fotoraam
uit. Sy moes hiervan ook ontslae geraak het, maar iets het haar weerhou.
Miskien ’n stukkie sentimentaliteit. Of dalk net haar verlange na die goeie ou
dae.
Lank staar sy na die foto van haar en Nico op hulle troudag. Dis glad nie ’n
indrukwekkende foto nie, Vicky het dit sommer met haar selfoon geneem.
Dis egter die emosie wat vasgevang is, wat haar keer op keer bekoor. Hulle
kyk met soveel bewondering na mekaar, dis moeilik om te glo alles het kort
daarna verkeerd geloop.
Sy sit weer die foto weg. Sy moet dit eerder in haar kluis toesluit, buite sig,
saam met die juwele wat Nico vir haar gegee het. Anders gaan sy hulle
ontmoeting en troudag in haar kop bly herleef, en dit gaan haar niks help nie.
Maar dis haar romantiese siel se skuld. Die hele ontmoeting was so perfek.
Uit ’n storieboek. En toe het hy dieselfde aand nog ongenooid vir aandete by
haar aangesluit. Later moes sy hoor die personeel het hom gebel toe sy uit
haar hotelkamer kom, net soos sy ook uitgevind het die hotel behoort aan
hom.
Hulle het tot in die vroeë oggendure gekuier. Die volgende dag het hulle
saam ontbyt geniet, en van toe af was hulle onafskeidbaar. Hulle het heeldag
op sy kamer se stoep gesit, die uitsig oor die see geniet, en mekaar geniet. Dit
was so hittete of sy het haar oortuigings oorboord gegooi, want meer as een
keer het sy hom amper toegelaat om met haar liefde te maak. En snaaks
genoeg was hy die een wat betyds gekeer het.
Daar het niks van haar planne om Italië beter te leer ken, gekom nie. Dit
het haar nie geskeel nie, want sy wou hom graag beter leer ken. Sy kon nie
haar geluk glo toe sy hoor hy bly groot gedeeltes van die jaar in
Johannesburg nie. Hulle het saam teruggevlieg, en die volgende dag het hy
haar gevra om te trou. Sy het nie ’n oomblik getwyfel oor wat haar antwoord
moet wees nie. Sy het ja gesê.
Ergerlik kyk sy na die foon wat begin lui. Sy is nie nou in ’n bui om met
iemand te praat nie, en nog minder iemand te sien. Sy groet kortaf.
“Jou man ... meneer Marconi wil jou graag sien.” Betsie val oor haar
woorde.
“Wat doen hy hier?” wil sy grimmig weet.
“Ek ... ek weet nie.”
Eva sug moedeloos. Sy maak haar ontvangsdame onnodiglik verbouereerd.
“Stuur hom deur.”
Sy haal vinnig ’n handspieëltjie uit haar laai. Sy lyk vaal, haar oë lyk soos
troebel waters en haar hare soos ’n tolbos. Sy kam haar hand deur haar hare
en smeer bloedrooi lipstiffie aan. Die kleur gee haar gewoonlik woema, en
nou het sy elke bietjie hulp nodig om Nico op sy plek te sit. Het Vicky hom
gestuur? Of wil hy oor haar swak vertoning karring?
Vies gooi sy die spieëltjie terug in haar laai. Hoekom is sy oor haar
voorkoms gepla? Sy moet sulke onbenullighede los vir die meisies wat om
hom draal, soos die poppie in die vergadering. Hopelik is sy verhewe bo
sulke gedrag.
Sy staar na haar toe deur, wat toe bly. Hoekom vat hy so lank? Sy is twee
kantore van die ontvangslokaal af, hy kan nie verdwaal nie. Sy hoop nie hy
hou Betsie met sinnelose praatjies uit die werk nie.
’n Paar minute later tik sy nukkerig op haar tafel. Moet sy hom gaan soek?
Sy staan op, en gaan sit weer. Nee, dis nonsens. As hy haar wil sien, moet hy
hierheen kom. Sy kyk gedetermineerd na die rekenaarskerm, maar kom agter
die woorde registreer nie.
Sy staan op en maak haar deur oop. Die gang is leeg, en daar is niemand in
die ontvangslokaal nie. Waar is Betsie? Wie beantwoord die foon? Sy hoor ’n
gelag in Sheila se kantoor. Sy blaas haar asem vies uit toe sy instap. Wat ’n
gesellige samekoms, en dit terwyl haar personeel betaal word om te werk.
Nico het hom uitgestrek in die besoekerstoel, Betsie sit heel pikant op die
hoek van die lessenaar en Sheila is agter haar lessenaar. Eva staan met
gevoude arms in die deur en wag dat hulle haar raaksien. Die sekondes tik
verby, maar haar personeel se aandag bly uitsluitlik op Nico gevestig. Sy kan
Sheila se fassinering verstaan, maar Betsie is amper sestig. Is daar nie ’n
afsnypunt vir ouer vrouens om hulle aan jonger mans te vergaap nie?
Sy wil net iets kwytraak toe Betsie skielik opkyk. Tevrede sien Eva hoe sy
regop spring en vinnig uitstap. Sheila staar met groot oë na haar en probeer
hard om nie skuldig te lyk nie.
Nico kyk om en staan ongeërg op. “Hallo, Eva, ek was op pad na jou toe.”
Sy ignoreer hom en fokus haar aandag op Sheila. “Sheila, ek wag nog vir
die verslag wat al vanoggend op my tafel moes gewees het.”
Sheila begin tussen die papiere op haar deurmekaar lessenaar krap. “Ek
bring dit nou.”
Nico kyk na Eva, en dan na Sheila wat nou bloedrooi bloos. “Ek is
jammer, lyk my ek hou jou personeel uit hulle werk.”
Eva kyk hovaardig na hom. “Dit lyk vir my ook so. Party van ons is nie
permanent met vakansie nie en het nie tyd om orals met almal te kuier nie. Ek
wag vir jou in my kantoor.” Sy stap vinnig weg en trek haar kantoordeur
agter haar toe. Moedeloos leun sy teen die deur. Wat besiel haar? Haar bitsige
opmerkings was onnodig. Sy is nie gewoonlik katterig nie. Haar standaarde is
wel hoog, maar sy hanteer werkskonflik met groot diplomasie. Sy moet ’n
bietjie dink voor sy haar mond oopmaak. Oningeligtes mag sweerlik dink sy
is jaloers op die aandag wat Nico kry. Sy sal later haar personeel om
verskoning vra vir haar ongeduld.
Iemand klop aan die deur en sy stap vinnig tot by haar lessenaar. Nico stap
in, sy baadjie oor sy skouer. Hy kyk vraend na haar. “Wat byt jou?”
Sy probeer ongeërg by die venster uitstaar. “Wat bedoel jy?”
Hy stap nader, gooi sy baadjie op haar lessenaar. “Jy is heeltyd soos
donderweer. Ek ken jou nie so nie.”
Sy draai kil na hom. “Jy ken my nie, punt. Ons ken mekaar nie, punt. Dis
hoekom ons huwelik nie gewerk het nie. Punt.”
Hy lig sy hande in oorgawe. “Jammer, dit lyk my ek het al weer die
verkeerde ding gesê. Ek wou net help, maar in die toekoms hou ek eerder my
mond. Jy is seker die laaste persoon op aarde wat my hulp nodig het.” Hy
gaan sit nogtans. “Jy was stil tydens die vergadering. Ek het nie bedoel om
oor te neem nie.”
Eva tel sy baadjie op en hang dit netjies oor haar stoel. “Dit pla my nie.”
Hy lag skepties. “Nou lieg jy darem.”
Sy ruk haar skouers op. “Is nie. Ek word nie maklik bedreig nie. Ek ken
my vermoëns en ek hoef myself nie heeltyd te bewys nie. Binnekort is jy
verveeld met jou jongste rol en kuier jy weer saam met jou ryk en verveelde
vriende op jou seiljag. Dan is dit ek wat die harde werk moet doen, en ek
doen dit nie deur ’n klomp jongmeisies te probeer beïndruk nie.”
Hy vou sy arms voor sy bors. “Ek gaan die grootste deel van jou
opmerking ignoreer, en dit toeskryf aan PMS of iets dergeliks. Ek moet egter
’n paar feite regstel, ek wil tog nie hê jy moet onder enige illusie wees oor my
rol hier nie. Ek is van plan om te bly en Vicky uit haar moeilikheid te help. Jy
dink dalk ek is ’n leëkop, maar ek glo nie iemand het ’n lang lys
kwalifikasies nodig om suksesvol te wees nie. Soms werk goeie ou common
sense ook, en daarvan het ek heelwat.”
Sy lig haar ken. “Ek is die kundige op die gebied. Verder het ek ’n lang lys
belangrike kliënte vir wie ek reeds gehelp het. Met net common sense gaan jy
nie veel van ’n bydrae kan lewer nie, maar solank jy onder my voete uitbly,
stel ek nie belang in wat jy doen, of met wie jy jou besig hou nie.”
Hy kyk stil na haar en dan knik hy. “Dan verstaan ons mekaar. En dis op
sigself ’n wonderwerk.”
Sy staan op. “Is daar nog iets?”
Hy strek sy lang lyf uit. “Geluk met die MBL wat jy laas jaar gekry het.”
Sy frons. “Dankie, maar hoe weet jy daarvan?”
“Jou CV is op jou webtuiste. Ek was darem nie in die grammadoelas nie.”
Sy selfoon lui. “Dis Vicky. Ek moet gaan. Ons gaan vir my ’n nuwe kar
uitsoek.” Hy vat sy baadjie en trek dit aan. Hy kyk vraend na haar. “Lyk ek
darem skaflik?”
Sonder om te dink beweeg sy nader en trek sy das reg. Dis iets wat sy baie
gedoen het. En soms meer as dit. Gewoonlik moes sy die skade herstel nadat
sy nie die versoeking kon weerstaan om hom nader te trek en haar waardering
vir soveel manlike skoonheid te wys nie. Sy wens amper sy kon dit nou doen.
“’n Kar? Jy bedoel seker ’n superluukse sportmotor wat spesiaal vir jou
ingevoer moet word,” terg sy hom, net om haar gedagtes na ’n veiliger
onderwerp te dwing.
Hy glimlag skeef. “Ek word in niks minder as die beste gesien nie, jy ken
my mos. Jy dink seker steeds ek is die spandabelrigste man op aarde.”
Sy kyk verwytend na hom. “Ja, jy het reeds ’n duur motorfiets en nou wil
jy ’n duur kar ook aanskaf. Watter regdenkende man spandeer miljoene op
voertuie, terwyl daar miljoene mense is wat honger gaan slaap?”
Hy lig haar ken met sy vinger. “As my geld die wêreld se probleme kon
oplos, het ek onmiddellik alles weggegee. Ongelukkig het ek nie genoeg om
dit reg te kry nie, maar dit beteken ook nie ek staan koud teenoor ander se
probleme nie. Ek doen my deel, maar soos jy tereg opgemerk het, ons ken
mekaar nie, al is ons getroud.” Sy vingers verstrengel onverwags in haar hare
en sy mond sluit oor hare. Sy kry nie kans om te reageer nie want hy laat haar
byna onmiddellik weer gaan. Hy beskou haar ingenome. “So ’n rooi bekkie
vra mos om gesoen te word. En ek hou van jou nuwe haarstyl, dit pas jou.
Net jammer dit lok ’n man uit om sy hande heeltyd in daai sagte krulle te
druk.” Hy tik haar liggies op haar wang. “Ek moet gaan. Vicky is nie ’n
geduldige vrou nie, en ek het haar nodig om my rond te vat. Sien jou later.”
Sy staar hom sprakeloos agterna. Toe die deur agter hom toegaan, val sy in
haar stoel neer. Haar hand streel oor haar lippe waar sy die warmte van sy
aanraking nog kan voel. Sy moet vies wees oor sy voorbarigheid, maar sy is
nie. Sy is eerder verward. En baie onseker oor haar eie gevoelens. Haar
kantoor voel leeg, asof al die energie uit die vertrek gestroop is. Sy roer haar
skouers ongeduldig. Nou is sy sommer verspot. Hy is haar vervreemde man,
nie meer die spil waarom haar lewe draai nie.
Ses
Moedeloos laat sak Eva haar kop teen die sekuriteitsfoon. Sy kan dit amper
nie glo nie. Tom is weer ongenooid hier. Wat het die mansmens onder lede?
Toe hy instap, hou hy ’n bottel vonkelwyn triomfantlik in die lug. “Ek het
vir ons Franse sjampanje gebring. Ons het iets om te vier.”
“En dit is?” Sy probeer om nie ongeduldig te klink nie, maar sy is nie lus
vir feesvier nie. Om onder die komberse in te klim en haar kop onder die
kussing in te druk, behoort haar bui beter te pas. Die week was ’n volslae
mislukking. By haar kantoor heers chaos, want sy moes tussen haar normale
werklas ook nog kragonderbrekings hanteer en instaan vir personeel wat siek
is. Om alles te kroon, praat Sheila skaars met haar en Betsie is nukkerig. Haar
verskoning is nie in goeie gees aanvaar nie.
Hier lyk dinge ook niks beter nie. Nico kom en gaan na willekeur, sy sien
hom net vir vlietende oomblikke, en waar hy gaan laat hy verwoesting agter.
Sy skoene lê orals, hy los die koerant net waar hy dit lees, en dit word haar
werk om orde te skep. Sy weet hulle het voltydse hotelpersoneel wat opruim,
maar dis nie waaroor dit gaan nie. Dit wys maar net hoe bedorwe hy steeds is.
En hoe selfsugtig.
Sy afwesigheid pla haar nie, sy verwag nie hy moet haar geselskap hou nie.
Allesbehalwe. En ten minste het hy ’n sosiale lewe, terwyl sy ure in haar
studeerkamer deurbring met die werk wat sy nie in die dag kon afhandel nie.
Sy wag tevergeefs vir sy hulp met Vicky se projek, nie dat sy hom iewers kan
gebruik nie, maar hy kan darem voorgee om betrokke te wees. Hy sal ook
nooit verander nie.
Tom is kortasem van opgewondenheid. “Nico se prokureur het my gebel.
Hy wil volgende week met ons vergader. Die man het uit sy pad gegaan om
aan my eise te voldoen. ’n Mens sou sweer hy verteenwoordig jou, en nie jou
man nie. Ek kry die idee Nico wil ook die ding vinnig agter die rug kry.” Hy
glimlag tevrede. “Waar is die glase?”
Sy stap na die kroeg en haal twee glase uit. Sy is nie beïndruk nie. Nico
wou eers nie skei nie, nou kan hy nie vinnig genoeg van haar ontslae raak nie.
Sy raak moeg vir sy onvoorspelbare optrede.
Tom skink die vonkelwyn en teësinnig vat sy ’n glas. Hy klink sy glas teen
hare. “Op ’n suksesvolle skeisaak. Kom ons gaan sit op die patio. Die uitsig
laat my nogal romanties voel.”
Sy kyk verbaas na hom. Sy het nog nooit van iets soos ’n suksesvolle
skeisaak gehoor nie. Weet hy enigiets van die pyn en wroeging wat ’n
persoon deurmaak voordat jy kamtig skotvry uit die hof stap? Sy opmerking
laat háár sommer befoeterd voel.
Skoorvoetend stap sy vooruit en gaan sit op een van die banke. En wat
bedoel hy met sy ander opmerking? Daar is nie sprake van romanse tussen
hulle nie, en as sy hom ooit die idee gegee het, is sy jammer oor die
verwarring. Sy is seker nie heeltemal sonder blaam nie, sy moes nooit sy
uitnodiging aanvaar het nie, maar dit was op ’n tydstip toe sy baie onseker
was van haarself. Sy was getroud, maar ook nie getroud nie, en nêrens kon sy
iemand kry wat haar na plekke kon vergesel nie. Wanneer ’n man hoor met
wie sy getroud is, het sy omtrent net hulle skoensole gesien soos hulle
padgee. Net Tom was nie vreeslik gepla nie.
Dit was kortsigtig om haar prokureur in die rol van haar metgesel te plaas,
want nou kan sy haar vriend én prokureur verloor.
Hy kom styf langs haar sit en lig weer sy glasie. “Op ons toekoms.”
Sy klem haar glasie op haar skoot. Toe sy arm agter oor die leuning rank,
skuif sy tot op die punt van die bank. “Is dit nie ’n bietjie voortydig nie?” Sy
hou haar stem rustig, maar haar kop werk oortyd. Hoe gaan sy haar uit
hierdie situasie wurm?
“Nee wat.” Hy het nog nooit so selfversekerd geklink nie, en sy hou hom
benoud dop. “Nico is ’n gawe ou, en hy lyk vir my heel gemaklik met ons
verhouding. Ek hoop net nie hy is kwaad dat ek die skeisaak hanteer nie. Ek
sal spyt wees as ek nie meer sy motorfiets mag leen nie.”
Sy onderdruk ’n wrang glimlag. Sy prioriteite is ietwat vreemd. As sy in
Nico se skoene was, sou sy hom nie naby haar goed toegelaat het nie. Met
Nico kan ’n mens egter nie voorspellings waag nie. Sy besluit op ’n
diplomatiese antwoord. “Ek is seker hy sal dit nog vir jou leen.”
Hy buig vooroor, streel met sy hand oor haar rug. “Weet jy wat beteken dit
vir ons?”
Sy sug. Hier kom dit nou. Kophou, Eva. Dink voor jy praat. Moet hom nie
kwaad maak nie. Jy het ’n goeie prokureur nodig. En vriend. Leer uit jou
foute. “Nee, ek weet nie.”
“Ons kan ...” Hy maak keelskoon. “Ons hoef nie meer skuldig te voel nie.
Ons kan nou openlik ’n verhouding hê.”
Sy het dit verwag, maar nogtans trek haar keel toe, en sy neem ’n sluk
vonkelwyn. “Ons het in elk geval niks om oor skuldig te voel nie. Ons is
goeie vriende, daar is niks fout daarmee nie.” Hy skuif nog nader, en as sy
nog verder wegbeweeg, val sy van die lae bank af. Sy wonder of hy hoor wat
sy sê.
“Ek het skuldig gevoel. Dit was ’n bietjie van ’n ongemaklike situasie. Jy
is getroud en ek is jou prokureur. Ek kon verstaan hoekom jy terughou, maar
nou het dinge verander. Ek het met my vennote gepraat, en as ons diskreet is
totdat die skeisaak afgehandel is, ondersteun hulle ons.”
Sy verstar. Hy het haar met sy vennote bespreek? Liewe hemel, nou neem
hy dit ’n bietjie ver. Het sy nie ’n sê nie? Sy kry egter nie kans om iets te sê
nie, want hy sit sy glas neer en trek haar vasberade nader. Sy ruk los, hy klou
verbete en sy verloor haar balans. Saam tuimel hulle tot op die houtvloer en
rol tot hulle teen ’n pilaar eindig. Hy lê nou half bo-op haar. Hy lag uitgelate,
stut met sy hande langs haar kop en mik na haar mond.
“Tom, wat doen jy?” wil sy uitasem weet.
Hy lag ingenome. “Nico het gesê ek moet jou nie so suutjies hanteer nie.
Jy hou daarvan as ’n man beheer neem.”
Verslae staar sy na hom. Nou maak hy stories op, Nico sal nooit so iets sê
nie. “Jy praat nonsens.”
Hy skud sy kop heftig. “Nee, ek belowe jou dis wat hy gesê het. Ons het
omtrent heelaand oor jou gepraat. Hy ken jou beter as ek, en hy behoort te
weet wat hy verkeerd gedoen het, en daarom het ek sy raad gevra. Ons is nou
al drie maande saam en ons vorder nie verder as ’n piksoentjie nie. Hy stel
toe voor ek tree ’n bietjie drasties op.”
Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Nou maak Nico se vriendelike optrede sin.
Dis alles ’n set om Tom se vertroue te wen, sodat hy hom op ’n dwaalspoor
kan lei. En om moeilikheid te maak. Want hy bewys haar nie ’n guns nie. Sy
het dit tog duidelik gestel sy sien Tom net as ’n vriend. Probeer hy van Tom
ontslae raak? Het hy uitgevind met watter kaliber prokureur sy hom gaan
teenstaan? Hoekom anders sal hy inmeng?
Tom se kop sak weer. “Tom, wag ...” Sy druk teen sy bors.
Hy skud sy kop. “Ek wil nie meer wag nie. Ek is mal oor jou. Ek wil jou
stukkie vir stukkie opvreet totdat ...” Hy byt haar in die nek, sy gil kliphard.
Iewers lag mense. Vervaard stoot sy Tom van haar af weg. ’n Skare staan
by die glasdeur, ’n skare wat sy ken. Nico en sy familie is toeskouers van
haar vernederende oomblik. Sy het hulle nie verwag nie, Nico het haar nie
gewaarsku hulle is op pad nie. Sy voel hoe haar wange warm word, en woede
spoel deur haar. Nico lag seker die lekkerste, hy het haar mos in hierdie
situasie laat beland. Haar blik soek na hom. Hy staan effens apart van die res,
en gelukkig vir hom lyk dit nie of hy die situasie vreeslik snaaks vind nie. Hy
hou hulle met ’n frons dop. Hy stap nader, en die res volg hom soos ’n klomp
skape. Sy wens sy kan onder die twintig vloere van die gebou verdwyn.
’n Verleë Tom sukkel orent. Nico hou sy hand vir haar uit en trek haar op.
Sy los dadelik sy hand, en met elke tree wat sy na haar kamer gee, verwens
sy hom. Haar lewe was wonderlik, alles was wonderlik en onder haar beheer,
sy het een sukses na die ander gehad, tot hy weer sy opwagting gemaak het.
Verbaas draai sy om toe Tom skielik agter haar praat. Hy was nie
veronderstel om haar tot in haar slaapkamer te volg nie. Wat gaan die klomp
dink? Veral na die petalje op die patio? “Wat doen hy hier? Ek dag hy het net
gisteraand sy goed kom haal.” Hy kyk beskuldigend na haar.
“Jy dag verkeerd. Die plek behoort aan hom. Ek moet uittrek, behalwe as
jy die plek vir my in die egskeidingsooreenkoms kan kry.”
Hy trek sy klere voor die spieël reg. “Ek het lanklaas julle lêer onder oë
gehad, maar ek sal kyk wat ek kan doen.” Hy kyk hoopvol na haar. “Jy kan
dalk tydelik by my ...”
Sy lig ’n afwerende hand. “Dis ’n dom idee en jy weet dit. Ek wil in elk
geval voorstel ons moet dinge ’n bietjie rustiger vat, mekaar nie sosiaal sien
nie. Net totdat alles verby is, dan kan ons weer besluit. Jy dink dalk Nico is
gemaklik met die hele spul, maar moet hom nie onderskat nie. Hy kan dit
teen ons gebruik. Ek wil nie enige struikelblokke op my pad na die hof hê
nie.” Dit maak haar benoud dat Nico Tom so maklik aan sy neus rondlei. En
sy het gedink Tom is die uitgeslape een.
Hy sug gelate. “Jy is seker reg. Met soveel geld op die spel, kan dinge lelik
raak.” Hy haal sy motorsleutels uit sy sak. “Ek ry maar. Ons aand is klaar
opgemors.”
Sy steek haar verligting weg. “Ek stem saam. Laat my weet waar en
wanneer ons hulle ontmoet.”
“Ek maak so.” Sy loop saam met hom tot by die hysbak, en stap dan traag
terug. Moet sy by Nico-hulle aansluit of moet sy eerder in haar studeerkamer
gaan werk? Sy het genoeg werk om haar besig te hou, maar dit mag ongeskik
lyk as sy nie weer gesig wys nie. En nog erger, hulle mag dalk spekuleer oor
wat sy en Tom doen, hulle weet mos nie hy het geloop nie. Het sy egter
genoeg bravade om ná die petalje nog al die op- en aanmerkings ook aan te
hoor? Maar eerder dit as spekulasie oor haar en Tom. Dalk moet sy net eers
iets gemaklik aantrek, haar snyerspakkie lyk baie onvanpas tussen die klomp
jappies.
Sy kyk deur haar klerekas, en sug moedeloos. Haar klere is ’n
weerspieëling van haar lewe, net donker snyerspakkies volgens kleur en
seisoen georden. Sy koop min gemaklike klere, want sy het nie ’n
gemakslewe nie. Gelate krap sy ’n ou paar wit jeans uit, wat ongelukkig beter
dae geken het. Die pienk bloesie wat sy kies, sal ten minste die uitgewaste
jeans opvrolik. Gelukkig is daar niks fout met haar lyf nie, alles is deesdae
mooi in proporsie, al moet sy dit nou self sê. Die jeans sal effens los sit, want
sy het dit gekoop toe sy ronder was. Ná Nico weg is, het sy haar eetlus
verloor. Sy kan nie eens haar gewigsverlies aan ’n streng dieet of harde
oefening toeskryf nie. Sy glimlag vir haar spieëlbeeld, en kam haar
donkerbruin hare totdat dit wild om haar gesig krul. Sy is reg vir hom. Hy
gaan sy inmengery nog berou, en veral die verleentheid netnou. Dis alles sy
skuld, hy wou mos vir Tom aanhits. Sy sal iewers kans kry om wraak te
neem, sy moet net haar oë oophou.
Vicky sien haar eerste. “Eva, jy lyk pragtig. Kyk, ouens, Eva is hier. Nico,
gee vir haar ook Franse sjampanje. Waar is jou vriend?”
“Huis toe.”
“Is jy dalk nog honger, Eva?” terg een van Nico se neefs. Antonie is sy
naam, as sy reg onthou. Almal lag, en sy glimlag verleë. Sy sal maar erken,
dit was seker ’n koddige toneeltjie. Sy wonder wat sy familie dink. Hulle deel
’n huis, maar sy rol saam met ’n ander man op die vloer rond. Sy hoop hy het
hulle op hoogte van sake gebring.
“Ek hoor by Nico jy het nie eens geweet ons klomp is op pad nie. Ek is
jammer ons betrap jou onkant. Ek wou ’n behoorlike verwelkoming reël,
maar voor ek iets kon doen, was almal reeds hier. Ons het die kuiery hier
gemis.” Vicky kyk verskonend na haar.
Eva kyk ongemaklik weg. En sy was nooit vreeslik gasvry as hulle
opgedaag het nie, sy wou leer en hulle het haar gepla. Sy voel effens skuldig
by die gedagte, sy weet sy kan soms ’n moeilike mens wees. “Vicky, ek is
jammer oor my optrede ná Nico weg is, dit was net ...”
Vicky vat haar aan die arm. “Jy hoef niks te verduidelik nie, ek was ook
daardie tyd effens van my kop af. Eers nadat hy my later gebel en alles
verduidelik het, het dinge sin begin maak. Ek is net bly hy is terug en julle is
weer bymekaar.”
Eva kyk verward na haar. Dit klink of sy nie weet van die beplande
egskeiding nie. Het hy nog nie sy familie ingelig nie? Sy sug heimlik. Sy is
moeg vir die komplekse spulletjie. Nico moet maar verduidelik hoe sake
staan, dis nie haar verantwoordelikheid nie. “Nico se familie en vriende is
altyd welkom hier,” antwoord sy gelykmatig. Sy weet nie wat anders om te sê
nie.
Nico stap nader, hou ’n glas vonkelwyn na haar uit. Sy skud haar kop. “Ek
het reeds gehad, dankie.” Onwillekeurig kyk sy na die bottel wat Tom
gebring het waar dit steeds langs die bank staan.
Hy lyk verbaas. “Wat het julle gevier?”
Sy kyk weg. “Sommer niks.” Sy kan hom nie vertel nie. Tom se optrede
was in swak smaak. En ná vanaand het sy finale sekerheid oor Tom se plek in
haar lewe. Hy is ’n aangename man en sy geniet sy intelligente geselskap,
maar haar hart klop nie vinniger as sy aan hom dink nie. Sy het nie ’n
naarstigtelike behoefte na passie in haar lewe nie, maar daar moet darem ’n
bietjie van ’n vonk wees voordat sy weer ’n verhouding oorweeg. Daar is dus
nie ’n kat se kans vir ’n romanse tussen hulle nie.
“Komaan, moenie ’n pretbederwer wees nie. Sluk die goed,” por Vicky
haar aan. “Ons drink op Nico se terugkoms. Ons het jou gemis, my broer. Die
plek was nie dieselfde sonder jou nie.”
“Hoor, hoor,” beaam ’n koor van stemme. Gedwee neem Eva die glas en
vat ’n klein slukkie.
“Wat is jou planne nou?” wil iemand weet.
“Ek soek kantoorruimte vir die beleggingsmaatskappy wat ek laas jaar
begin het, en daarna wil ek nog makelaars aanstel. My maatskappy is nou te
groot om met ’n laptop te bestuur.”
Eva staar oopmond na hom. Hy het ’n beleggingsmaatskappy begin? Hy
het baie maatskappye, almal geërf, en hy het nouliks meer as ’n dag by enige
van hulle deurgebring. Hy bank net die miljoene wat sonder enige inset van
sy kant af instroom. Selfs haar aanhoudende geskimp kon hom nie sover kry
om ’n vinger te lig nie. ’n Beleggingsmaatskappy was nooit ter sprake nie.
Vicky moes haar verbasing gesien het, want sy kyk ontevrede na Nico.
“Weet Eva nie van jou planne nie? Hoe kan jy haar in die duister hou?”
Eva skud haar kop verdwaas. “Belê jy in die aandelemark?”
Vicky kyk verras na haar. “Jy weet van niks. Hoe maak my broer dan?” Sy
kyk beskuldigend na Nico. “Is jy skaam oor jou jongste sukses?”
Nico sê niks, haal net sy skouers op terwyl hy aan sy vonkelwyn teug.
“Nee, ek dink hy is vrekbang Eva vind uit van die ander miljoene wat hy
maak,” spot Antonie. “’n Man deel nie al sy geldsake met vroulief nie. Julle
vroumense het mos nie veel van ’n verskoning nodig om op ’n inkopietog te
gaan nie.”
Vicky kyk skerp na hom. “Hoe sal jy weet? Jy is nie eens getroud nie.”
“Presies, wys jou hoe slim is ek. Ek het nie eens genoeg trustgeld vir
myself nie, hoekom sal ek dit met ’n gierige vrou deel?”
Eva byt haar onderlip vas. Sy moet by haar voorneme bly, sy gaan elke
woord oordink voordat sy dit hardop sê. Die mansmens stoot egter haar
bloeddruk tot gevaarlike vlakke op. Ten minste werk sy vir haar geld, en leef
nie op haar ouers se sukses nie. Sulke opmerkings sal egter nie goed by
hierdie gehoor afgaan nie, die meeste van hulle het miljoene geërf.
Vicky druk haar vinger uitdagend onder Antonie se neus. “Party van ons
het nie ’n man nodig om ons te onderhou nie. Eva is ’n goeie voorbeeld, sy is
suksesvol in eie reg en werk hard vir elke sent wat sy het.”
“Sy kan haar in ’n koma werk, sy gaan steeds nie dié dakwoonstel kan
bekostig nie. Wat is die huidige markwaarde, Nico? Tien miljoen? Vyftien?”
Nico kyk vies na hom. “Jy het te veel gedrink en praat nou twak. Eva sorg
vir haarself, ek hoef haar nie te onderhou nie.” Hy vat Eva se hand. “Kom
ons gaan sit waar jy nie na sulke nonsens hoef te luister nie.”
Sy stap saam met hom terwyl sy die jongste inligting herkou. Sy voel
behoorlik asof sy aan bomskok lei. Nico het binne ’n paar maande ’n
suksesvolle maatskappy op die been gebring, sonder enige kwalifikasie of
ervaring. Nie eens sy erfgeld sou hom ’n hupstootjie kon gee nie.
Hulle gaan sit langs mekaar op die bank. Hy sug tevrede. “Ek het die plek
gemis.”
Sy kyk skeef na hom. “Jy kon nie te veel verlang het nie, anders was jy
lankal terug.” ’n Krapperigheid kom sit op haar bors.
“Dis nie so eenvoudig nie.” Hy bly stil, sug diep. “Ek moes eers ’n paar
goed in my lewe uitsorteer.”
Sy kyk verbaas na hom. Sy dag die idee was om van haar af weg te kom.
Hoekom klink dit asof hy groter doelwitte wou bereik? “Wat bedoel jy?”
Hy glimlag skeef. “Eendag wanneer die stof tussen ons gaan lê het, sal ek
jou dalk van my ervarings vertel. Dis nog nie die regte tyd nie.” Hy vou haar
hand in syne toe en sy laat hom begaan. “Ek is jammer ons het jou nie betyds
gewaarsku ons is op pad nie. Ek het probeer om jou in die hande te kry, maar
jou foon was heeltyd af.”
Sy staar na hulle verstrengelde vingers. Sommige goed lyk net reg. Al is
dit nie reg nie. Sy hand is soveel groter as hare, sterk hande, nie meer so sag
soos wat sy onthou nie. Hy moes seker handewerk op die seiljag gedoen het.
“Ek was heeltyd in vergaderings, maar dit maak nie saak nie. Dis jou plek, jy
kan jou familie oornooi wanneer jy lus is. Wanneer kom jou meubels?”
“Volgende naweek. Ek het my gestoorde meubels verkoop, en ’n paar
nuwe goed aangeskaf. Die huis sal grotendeels bly soos dit is.”
Sy knik. Dit maak egter nie meer saak nie. Die een wat die plek behou, se
meubels sal bly. En dit gaan hare wees. “Hoe het jy by die aandelemark
betrokke geraak? Jy het tog nooit enige belangstelling daarin getoon nie.”
“Een van my kajuitpersoneel het oor sy swaer se sukses gespog. Dit het my
nuuskierig gemaak, en toe ek weer kyk, het die gogga my gebyt. Ek weet nie
hoe ek dit regkry nie, maar ek het ’n goeie aanvoeling om die markte min of
meer te voorspel. Ek het ’n paar kursusse gedoen, en toe meer begin aanpak,
en baie geld gemaak in die proses. My vriende het natuurlik daarvan gehoor,
en ek moes hulle geld ook belê. Naderhand was dit te veel werk vir een
persoon, en ek het hulp gekry. Nou het ek ’n kantoor nodig.”
Sy voel ietwat afgehaal. Sy was die een wat gekarring het oor sy
rondjollery, en nou kan sy nie eens deel in sy werkstriomf nie. Want sy is nie
meer deel van sy prentjie nie. Is dit nie ironies nie? “Jou prokureur het Tom
gekontak.” Sy lek oor haar lippe. Nou wil sy sommer tjank. Sy kan dit glad
nie verstaan nie.
Hy knik. “Ek weet, die skeisaak moet nou eerste prioriteit word.”
“Jy kan seker nie meer wag om my uit jou lewe te kry nie.” Sy byt spytig
op haar lip toe sy haar bitsige woorde hoor.
Hy kyk oorbluf na haar. “Ek gaan nie eens my asem mors deur daarop te
reageer nie.” Hy staan op. “En as dit die rigting is waarin jy die gesprek wil
stuur, na net nog ’n klomp aantygings oor my ondraaglike optrede, soek ek
eerder die geselskap op van mense wat my waardeer.” Hy stap weg.
Oorbluf kyk sy hom agterna. Sy is ’n idioot. Hoe kan sy so iets sê? Sy wil
skei, maar nou is sy sommer omgeklits omdat hy die proses wil oorneem. En
daarom soek sy skoor. Sy kan net nie meer met alles byhou nie en dit maak
haar onredelik. En irrasioneel. Niemand kan hom blameer as hy van sy
befoeterde vrou ontslae wil raak nie. Sy moet bykom, begin besef al die foute
lê nie by hom nie.
“Eva, kom jy môre saam?” wil Vicky weet. “Ek het vir almal plek
bespreek by een van my spa’s. Julle kan al die behandelings uittoets. Jy kan
sommer ook die diens evalueer.”
Sy wil eers nee sê. Sy moet werk, dis wat sy gewoonlik naweke doen. Sy
sien hoe Deidre by Nico inhaak en saggies met hom praat. Miskien moet sy
tog saamgaan, haar oopstel vir nuwe ervarings. ’n Dag by ’n spa kan seker
nie skade doen nie. Sy kan dit as deel van haar pligte beskou. Dis ’n bietjie
voortydig, maar dit gee haar tog ’n goeie verskoning om te gaan. “Ek kom
saam. Hoe laat gaan ons?”
“Vroegoggend. So seweuur. Ek sal jou kom haal, Nico gaan met sy
motorfiets ry.”
Sy knik. “Dis reg. Julle moet my nou verskoon, ek moet gaan werk.” Sy
stap egter verby haar studeerkamer na haar slaapkamer met ’n spookbeeld
van Nico en Deidre in haar kop. Sy hoop nie op ’n rustige nag nie, daar is te
veel steurende gedagtes wat haar gaan wakker hou.
Sewe
Eva weet nie hoe dit gebeur het dat sy met Deidre afgepaar word vir die
pamperlangsessies nie. Nadat Vicky hulle vertel het Nico kom eers later, het
sy haar gaste by een van die geboue ingelei en hier sit Eva nou in ’n vertrek
saam met Deidre terwyl twee terapeute hulle bederf met gesigbehandelings.
Waaroor gesels ’n mens met ’n twintigjarige met wie jy niks gemeen het
nie, behalwe miskien jou man? Sy kan haar seker nie vra wat haar intensies
met Nico is nie? Die gedagte laat haar amper hardop giggel, en dis nie eens
snaaks nie. Dis net omdat sy in hierdie stadium soos ’n vis op droë grond
voel.
Sy moet erken, die diens is foutloos. Met die intrapslag is hulle hartlik
verwelkom en na die kleedkamers geneem, waar hulle japonne en pantoffels
moes aantrek. Die mans is na een area en die vrouens na ’n ander, waar ’n
louwarmvoetbad, gevolg deur ’n voetewas-seremonie gewag het. ’n Ligte
vrugte-ontbyt met vonkelsap is bedien, en toe was dit tyd vir die huidige
sessie.
Maar sy weet nie hoe om te ontspan en die oomblik te geniet nie. Sy is nie
gewoond aan bederfsessies nie, en haar enigste ervaring daarvan was die kort
rukkie wat sy ’n huis met Nico gedeel het. Hy het haar op die hande gedra,
koffie in die bed gebring, heeldag geskenkies aangedra, altyd kos gemaak. Sy
frons. Hoe kon skoene en koerante haar pla? Dis tog die minste wat sy kan
duld. Sy sug heimlik. Sy konsentreer te veel op die groter prentjie en kyk die
kleiner goedjies mis. Dis goed wat alles bydra om ’n verhouding spesiaal te
maak. ’n Verhouding wat sy ongelukkig nie meer het nie. Die gedagte trek
pynlik deur haar lyf, maar dit help nie om nou daaroor te wroeg nie. Dis te
laat.
“Ek is bly ek kon jou uiteindelik ontmoet.” Eva loer verbaas na Deidre.
Praat sy met háár? “Toe ons op Nico se seiljag was, het hy heeltyd oor jou
gepraat, dit voel omtrent of ek jou ken.”
Gelukkig kan sy niks sê nie, want ’n warm handdoek word met sorg oor
haar gesig gevou. Dit keer egter nie Deidre se gebabbel nie. “Ek hoop nie jy
dink daar is iets tussen ons nie, Nico is soos ’n ouboet vir my.”
Is dit die regte plek om sulke goed kwyt te raak? wonder Eva benoud.
Maar miskien het die terapeute al erger gehoor. En gelukkig ken hulle haar
nie. Vicky het seker gemaak daar is nie sprake van ekstras net omdat die
personeel weet hulle dienste word beoordeel nie.
“Nico het jou seker vertel ek gaan vir Vicky werk. Ek is baie opgewonde
daaroor.”
Eva knik. Sy moet seker maar moeite doen om gesellig te raak. Deidre is
darem familie. “Het jy die tyd op die seiljag geniet?”
“Dit was ’n ongelooflike ervaring, maar jy sal nog jou beurt kry. Nico wil
jou eendag vat, sodra jy tyd het. Daar is soveel plekke wat hy jou wil wys. Hy
het die mooiste foto van jou in sy kajuit. Ek het geweet wanneer hy verlang,
want dan het hy lank daarna gesit en staar.”
Eva frons verward. Het die meisie te veel vonkelsap in? Niks wat sy sê
maak sin nie. Nico het haar gelos omdat hy moeg is vir haar. Hoekom klink
dit nou of hy oor haar getreur het? En as hy spyt was oor sy optrede, kon hy
mos vroeër teruggekom het. “Waar bly jou ouers?” Sy verander eerder die
onderwerp. Sy is verward genoeg, en sy gaan ook nie die meisie se skewe
interpretasie kop toe vat nie. Deidre gesels lustig voort, tot die sessie klaar is,
en terwyl hulle na buite stap vir middagete.
Die ete is ’n piekniek langs ’n stroompie onder lowergroen bome. Oral op
die gras is kussings en matte. Die gaste ontspan luilekker terwyl ’n ligte
vingerete bedien word.
Eva lê gemaklik terug teen ’n kussing terwyl sy aan ystee teug en nou en
dan ’n peuselhappie vat. Deidre en Vicky sit ’n entjie weg en sy hoor net hier
en daar ’n woord van hulle gesprek. Sy het nie verwag sy gaan die dag so
baie geniet nie. Sy moes jare gelede Vicky se uitnodigings aangegryp het, dit
sou dalk haar temperament goed gedoen het, maar sy dink mos altyd sy weet
van beter.
Vicky se opgewonde stem ruk haar uit haar lomerigheid. “Kyk wie is hier.
My liefste broer het ons uiteindelik met sy teenwoordigheid kom vereer.”
Nico kom met lang hale aangestap. Hy het jeans en ’n blou hemp aan, en
Eva sug tevrede. Die middag is skielik volmaak.
Hy glimlag in Eva se rigting en gaan staan by Vicky. “Middag, dames.
Hoe was julle oggend?”
“Fantasties, maar waar was jy?” Vicky frons kamtig kwaad.
“Jy ken my. Ek is nie een vir fieterjasies soos manikure en pedikure nie.
My vroulike deel moet maar vir altyd begrawe bly.”
Vicky beduie na die klomp wat op die stoep sit. “Antonie geniet hom gate
uit.”
Nico grinnik onbeïndruk. “Antonie het nog altyd ’n Boheemse streep
gehad.”
Vicky lag. “Kry vir jou iets om te eet.”
“Dankie, ek gaan sommer by Eva sit.” Hy stap nader. Sy blik beweeg
stadig oor haar. Oneindig stadig. Sy weet nie wat kykbaar is aan ’n pienk
japon en pienk pantoffels nie, en sy verwens haar hart wat weer woes in haar
binneste klop. Sy is nie veronderstel om so op sy blote teenwoordigheid te
reageer nie. Dit vertel sy haarself keer op keer, maar die boodskap kom nooit
by haar wispelturige lyf uit nie. In die nabye toekoms beter sy afstand doen
van dit wat amper tasbaar tussen hulle lê. Sy weet net nie hoe sy dit gaan
regkry nie.
“Jy lyk lekker ontspanne.” Hy sak langs haar neer en vat ’n druiwetros uit
’n bak.
Effens onseker sit sy regop. Gelukkig lyk hy nie meer kwaad nie. “Dis ’n
heerlike bederwery.” Sy skop haar pantoffels uit, wys haar hande en voete.
“Kyk hoe mooi lyk my voete en hande.” Sy lig haar gesig. “Kan jy sien hoe
blink my vel?”
Hy glimlag. “Jy lyk pragtig. Soos altyd.”
“Jy oordryf nou,” protesteer sy halfhartig. “Ek is in ’n japon met geen
grimering aan nie. Dis nie pragtig nie.”
“Dit maak nie saak wat jy aanhet nie, jy bly die mooiste vrou vir my.”
Oukei, nou praat hy haar taal. Al oordryf hy. Die dag raak net beter. Watter
vrou hou nie van komplimente nie? Selfs al kom dit van jou vervreemde man.
Jou amperse eksman. Sy kyk onseker na hom. “Is jy nie meer kwaad nie?”
Hy kyk vraend na haar.
“Gisteraand. Oor die skeiery?” herinner sy hom.
Hy lag verras. “Jy ken my buie. Vinnig kwaad, en vinniger oorgewaai.”
Sy knik. Ja, sy ken hom. ’n Passievolle man, maar ook ’n gemaklike een.
Nie met allerhande obsessies en komplekse soos sy nie. “Waar was jy
heeloggend?”
“Het jy my gemis?” Hy glimlag tergend en druk ’n korrel in haar mond toe
sy verontwaardig wil reageer. Sy sluk die soetigheid weg.
“Ek wou graag sien hoe jy met ’n Franse manikuur lyk,” treiter sy hom.
Hy glimlag. “Jy sal nooit die voorreg hê nie, maak vrede daarmee. Ek los
die tierlantyntjies vir julle vroumense, en bewonder net die resultate.” Hy buk
oor haar, en onverwags streel hy oor haar wang. “Jou vel is babasag.” Sy
snak na haar asem toe sy duim oor haar onderlip streel. “Selfs jou lippe lyk
voller.”
Sy glimlag bewerig. “Hulle het een of ander serum aangesmeer. Dis darem
nie botoks nie.” Haar stem is hees.
Sy blik bly op haar lippe. “Nie dat jy botoks nodig het nie. Jy het die
soenbaarste lippe op aarde.”
“En van wanneer af is jy ’n kenner?” Sy lek oor haar lippe wat skielik
droog voel. Hy weet watter knoppies om te druk om ’n vrou te laat swymel.
“Ek was die laaste ruk in genoeg lande om te kan vergelyk.” Hy skud sy
kop toe sy skerp na hom kyk. “En jy lyk verniet so suspisieus, ek het jou
nooit verneuk nie.”
Sy probeer ongeërg lyk. Dit pla haar glad nie. Hulle gaan skei. En tog
maak dit saak. Sy kan haar nie indink dat ’n ander man aan haar raak nie. Die
gedagte laat haar behoorlik gril. Dalk sal dit later kom. Heelwat later.
Wanneer die skeisaak lankal verby is. Wanneer sy nie meer onthou nie, nie
meer aan hom dink nie. Wanneer sy nie meer vergelykings kan tref nie. Want
dit sal onregverdig wees teenoor enige ander man.
“Wat drink jy?”
“Ystee.”
Hy sug beswaard. “Ek moes ’n bottel wyn saamgebring het, my suster sit
altyd vreemde drankies voor.”
Sy wys na haar glas. “Proe net, dis nie so sleg nie.”
Hy vat ’n sluk, trek dan ’n gesig. “Nee, dankie, nie my smaak nie.”
Hy sak tot langs haar, sy skouer teen hare, en stut hom op sy elmboog. “Ek
het na ’n paar kantore gaan kyk, maar kon nog nie iets kry waarvan ek hou
nie.”
Sy lag verbaas. “Dis ’n nuutjie, jy wat op jou werk konsentreer, terwyl ek
’n dekadente dag by ’n spa geniet.”
Hy glimlag, voer haar nog ’n druiwekorrel. “Dan is daar darem hoop vir
ons albei. Wat is op die spyskaart vir die res van die dag?”
“’n Massering, gevolg deur ’n Turkse bad.”
Sy glimlag verbreed. “Dit klink soos musiek in my ore.”
Sy kyk kamtig kwaai na hom. “Jy lyk verniet so opgewonde, jou suster het
’n betaamlike plek hier.”
Sy sien die terg in sy donker oë. “En ek het niks anders in gedagte nie.” Hy
skuif nader. “Maar nou gee jy my allerhande idees. Toe ek ’n vriend in Japan
besoek het, het ek ’n paar van die Oosterse masseringstegnieke aangeleer.
Wil jy weet hoe dit werk?”
Teen haar sin knik sy. Sy weet wat kom, hierdie gaan nie sommer net ’n
onskuldige gesprekkie bly nie. Sy moenie saamspeel nie, maar sy kan ook nie
die versoeking weerstaan nie.
“Dis eintlik baie eenvoudig, en maklik om aan te leer. Die atmosfeer is van
kardinale belang, met sagte musiek, geurige kerse, lekker eetgoed.” Hy proe
aan ’n druiwekorrel en die sap rol oor sy onderlip. Hy lek dit stadig af en haar
blik haak vas op sy lippe. “Dis belangrik om al die sintuie te betrek. Jy het ’n
wye keuse van olies, afhangende van die stemming wat jy wil skep. Die olie
moet warm wees, en jy moet dit liggies oor haar lyf drup. Dan begin jy die
massering deur haar rug met jou asem te streel.” Hy lag saggies toe sy
skepties na hom kyk. “Dis regtig so, dis alles deel van die Oosterse
liefdeskuns. Hulle noem dit die hemelse massering.” Hy leun nader, terg met
sy vinger oor haar neus, haar wang, haar lippe. Die heeltyd hou hy haar blik.
Sy stem word stelselmatig sagter. “Jou aanraking moet eers sag wees, en
stadig.”
Eva sluk swaar. “Ek dink nie dis die tipe massering wat hier gedoen word
nie.”
Hy glimlag. “Nee, maar dis die een wat ek doen. Ek soek net ’n gewillige
maat.”
Iemand maak keelskoon, en ongeduldig kyk albei op. Vicky staan langs
hulle en glimlag breed. “Haai, julle twee. Hoor julle my nie roep nie? Die
volgende sessie begin oor ’n paar minute. As julle nog iets wil drink of eet,
moet julle gou maak.”
“Jou tydsberekening is vrot.” Nico help Eva op.
Vicky lag net.
Eva probeer tot verhaal kom. “Ek gaan net gou kleedkamer toe. Sien julle
later.” Sy hardloop omtrent weg. Het haar vervreemde man haar nou net
probeer verlei? wonder sy terwyl sy die gebou instap. As dit die idee was,
dan het hy in sy doel geslaag. Maar hoekom wil hy dit doen? En hoekom laat
sy dit toe? Dit kan sake net erg kompliseer.
In die verbygaan sien sy vir Cynthia op die stoep uitgestap kom en op Nico
afpyl. Sy gaan seker nou sorg vir die spesiale behandeling wat sy hom so
mooitjies belowe het. Vies slaan sy die deur van die kleedkamer agter haar
toe.
Terloops kyk sy na die twee meisies, ’n kort donkerkopmeisie en ’n
blondine, wat haar openlik dophou. Sy ignoreer hulle nuuskierige blikke. Sy
ken hulle nie en wil ook nie nou oppervlakkige gesprekkies aanknoop nie. Sy
wil so gou moontlik by haar massering uitkom, sy het dringend hulp nodig
om die spanning uit haar lyf te kry. Toe sy haar hande was, stap hulle nader.
Sy het hulle reeds op die stoep opgemerk. Sy skat hulle omtrent in hulle
vroeë twintigs, maar hulle is duidelik deel van die jetset-groep. Iewers moet
daar ouers wees wat goed voorsien sodat hulle in ’n luukse skoonheidskliniek
kan rondhang.
“Jammer om te pla, ons is seker voor op die wa, maar die man saam met
jou lyk vreeslik bekend. Is hy dalk ’n celebrity of iets?” wil die
donkerkopmeisie weet.
Eva frons. Sy wil hulle eers afjak, sy gaan Nico wraggies nie met
vreemdelinge bespreek nie. Dan onthou sy die vorige aand, en haar
vloersessie met Tom, en Cynthia se gedetermineerde stappie, en ’n duiwelse
gedagte kom sit in haar kop. Hy wil mos ’n handjie bysit met haar
liefdeslewe, miskien moet sy hom ’n soortgelyke guns bewys. “Julle is reg,
hy is nogal bekend. Dis Nico Marconi, die bekende biljoenêr wat ook familie
is van die Italiaanse koninklike familie. Sy suster is die eienaar van die
skoonheidskliniek,” dik sy haar storie behoorlik aan.
Die twee meisies kyk beïndruk na haar. “Ek het nie geweet Italië het
koninklikes nie?” vra die blondekoppie.
“Ja, hulle het, alhoewel hulle nie meer die land regeer nie.”
“Is julle saam?”
Eva skud haar kop. “Nee, ek is getroud. Hoekom? Wil julle hom
ontmoet?”
“Hy is baie cute,” sê hulle amper gelyktydig.
Eva onderdruk haar lag. Dis nie hoe sy Nico sal beskryf nie. “Dalk moet ek
sy selnommer vir julle gee. Hy hou nie daarvan om trompop geloop te word
nie, maar hy vrek oor meisies wat nie terughoudend is nie.”
Hulle laat hulle nie twee keer nooi nie, en tik sy nommer op hulle selfone
in. In haar noppies stap Eva uit. Dit sal hom leer om sy neus uit haar sake te
hou. En om haar nie te terg nie. Sy stop in die gang. Dit was nie baie slim nie.
Nico het haar gewaarsku om nie oor sy familie te praat nie, of te vertel waar
hulle bly nie. Hy het egter die twak begin, verontskuldig sy haar. Hy wou
Tom mos aanhits, en dis wat hy nou daarvoor kry. Dalk is die meisies nie
dapper genoeg om hom te bel nie.
Sy is dankbaar toe sy sien sy is alleen in ’n kamer. Sy is bly sy kon Deidre
beter leer ken, en sy sal nog later die verwarring oor haar verhouding met
Nico uit die weg ruim, maar nou wil sy alleen wees. Alleen met haar eie
gedagtes. Gedagtes wat tot haar frustrasie behep bly met Nico.
Sy trek haar japon en pantoffels uit, en maak haar gemaklik op die smal
bed. Die strelende musiek maak haar rustiger. Kerse flikker rondom die bed
en dit herinner haar aan Nico se woorde. Sy weer die prentjie vinnig uit haar
kop.
Die terapeut gooi ’n groot wit handdoek oor haar onderlyf, en begin die
aromatiese rome met doelgerigte hande in haar rugspiere vryf. “Ontspan net,
en konsentreer op die massering. Sluit alle ander gedagtes uit,” beveel sy.
Makliker gesê as gedoen, dink Eva vies. Die meisie ken nie haar man nie,
en sy weet nog minder van die woorde wat hy ’n paar minute gelede in haar
ore gefluister het. Dit maak dit amper onmoontlik om te ontspan, of net op
die massering te konsentreer.
Die meisie se tegniek is egter onverbeterlik, en Eva voel hoe sy rustiger
word, van alles vergeet, behalwe die lekker gevoel van styfgespande spiere
wat stelselmatig meegee. Sy moes aan die slaap geraak het, want skielik ruk
sy wakker. Iets is anders in die atmosfeer, sy voel dit onmiddellik aan.
Dieselfde rustige musiek speel nog, die kerse flikker, en ’n vanieljegeur
huiwer in die lug, maar die aanraking op haar lyf is anders. Dis fermer, amper
manlik. Manlik?
Sy rol blitsig om, vou die handdoek beskermend oor haar kaal lyf. Nico
staan langs die bed en kyk geamuseerd na haar.
“Wat doen jy hier? Waar is die terapeut?” hyg sy.
Hy haal sy skouers op. “Ek het haar kom aflos.”
Sy kyk verslae na hom. “Nico, wat besiel jou? Jy weet ons gaan skei,
hoekom wil jy alles kompliseer met jou optrede?”
Hy verstyf. “Dis net ’n massering, Eva. En ek is nie die een wie se kop raas
nie. Jy stuur heeltyd teenstrydige boodskappe uit, want een oomblik laat jy
my toe om aan jou te vat, en die volgende oomblik gaan jy soos ’n non te
kere.”
Sy hyg na asem. Hy praat nou pure nonsens. En dan bedink sy haar. Dalk
is hy reg, sy tree inkonsekwent op. Dis presies wat haar ook pla. Sy wil hom
uit haar lewe hê, maar smelt omtrent as hy naby kom. Dit moet nou tot ’n
einde kom, neem sy haar voor.
Daar is ’n sagte klop aan die deur. “Nico, is jy hier?”
Eva herken Cynthia se stem en sy kyk ontevrede na Nico wat sy kop
moedeloos skud. “Jou terapeut soek jou vir jou spesiale behandeling.”
“Waarvoor dink jy vlug ek hierheen?” Hy stap na die deur. “Ek kom nou,”
lig hy Cynthia in, en Eva hoor hoe sy wegstap. Hy stap weer nader, kyk stil
na haar. Sy voel ontbloot, die handdoekie bedek nie veel nie, maar sy hou sy
blik uitdagend.
“Dit gaan nie weer gebeur nie. Ons bly weg van mekaar af.” Haar woorde
klink egter nie so oortuigend soos dit moet nie.
Hy skud sy kop. “Ek is nie klaar met jou nie, my Eva.” Met die vreemde
woorde, stap hy uit, en sy staar hom verslae agterna. Sy klim van die bed af,
trek haar japon aan, en gaan soek haar klere. Sy wil nou by die huis kom, sy
is nie in ’n bui vir enige verdere pamperlangsessies nie, nie terwyl hy
hierrond is nie. Sy sal net ’n goeie verskoning vir Vicky moet reg hê, die
arme meisie moet tog nie dink haar spa se dienste stel teleur nie.
Agt
’n Foon lui aanhoudend. Sy wil egter nie wakker word nie. Nog minder
opstaan. Dis te lekker hier. In haar droomwêreld. Sy draai op haar rug, strek
haar tevrede uit. Die foon bly lui. Teensinnig maak sy haar oë oop. Sy frons.
Waar is sy? Nie in haar kamer nie. Haar mure is sagte geel, nie ligblou nie.
Daar is ’n beweging langs haar, en lui draai sy op haar sy. En kyk vas in
Nico se donker blik. Hoekom lyk hy soos ’n kat wat in room swem? Sy kop
is op sy hand gestut, en hy staar geamuseerd na haar. En hy sê niks. Wat gaan
aan?
Geskok sit sy regop. Hulle is saam in ’n bed. Sy bed. Hoe op aarde het sy
hier beland? Net gistermiddag het sy haar voorgeneem om uit sy pad te bly,
nou deel hulle ’n bed. Sy kan amper nie glo wat sy sien nie. Is sy besig om
mal te word? “Wat doen jy hier?” wil sy nukkerig weet.
Hy grinnik. “Ek slaap hier.”
Ergerlik vryf sy deur haar hare. “Ek weet dit. Maar wat soek ons in
dieselfde bed?” Sy kyk na sy kaal bolyf, en word yskoud. “Ons het nie
gisteraand ...” Sy skud haar kop. Nee, nooit. Dit sou sy nie sommer vergeet
nie. Nadat Vicky haar afgelaai het, het sy haar in haar kamer gaan toesluit, en
toe sy in haar bed klim, was hy nog nie tuis nie. Dit onthou sy, die res is
ietwat vaag.
“Jy het in die nag by my kom inklim. Ek kon dit nie oor my hart kry om
jou te verjaag nie, veral nie toe jy soos ’n tevrede katjie in my arms gelê het
nie.” Hy laat sy oë tevrede oor haar bolyf gaan, en sy kyk af. En gee ’n
geskokte gil. Vervaard trek sy die duvet tot onder haar ken. Nou weet sy
hoekom hy so grinnik. Waar is haar betaamlike nagrok? Sy het net haar
onderklere aan. “Hoekom waarsku jy my nie?” wil sy vies weet.
Hy lag hardop. “Ek is amper seker jy het bedenkinge oor my manlikheid.
Ek sny eerder my tong af voordat ek jou waarsku.”
Sy kyk vies na hom. “Dis nie snaaks nie, en ek weet steeds nie hoe ons
saam in jou bed beland het nie. Ek het tog in my eie bed aan die slaap
geraak.”
Hy haal sy skouers op. “Ek het jou nie hierheen gebring nie. So desperaat
is ek darem ook nie.”
Sy sluk haar bitsige woorde. Dink voor jy praat, Eva. Bêre jou skerp tong.
En hy is reg, hy hoef nie so iets te doen nie. Vroumense soek hóm gewoonlik
op, dit lyk meestal soos ’n stormloop.
Sy kan vaagweg ’n droom onthou, een waar sy uit haar bed klim, en in die
donkerte rondstrompel. Maar hoekom hier inklim? Sy wil eerder nie te veel
wonder nie. ’n Kopdokter sal wonderlike afleidings oor haar optrede maak.
Sy moet eerder uitwerk hoe sy met waardigheid hier gaan uitstap.
“Hoe laat is dit?” Sy buig oor hom, en draai die wekker na haar toe. Haar
oë rek. “Dis onmoontlik. Dit kan nie wees nie. Ek slaap nooit so laat nie. Jou
wekker is stukkend.”
Hy wys na die oop venster. “Kyk waar sit die son, daar is niks fout met die
wekker nie.”
Sy sak terug teen die kussing. “Ek slaap nooit so laat nie. Wat is fout met
my?” Sy kyk moedeloos na hom. “Miskien het ek iets onder lede. Iets wat my
brein aantas, dis hoekom ek nie weet wat ek doen nie.” Sy sug verlig, dis ’n
goeie verduideliking vir haar holderstebolder optrede. En terwyl sy daaroor
dink, voel sy sommer koorsig ook.
Hy lag haar openlik uit. “Jy soek nou ’n verskoning, maar ek val nie
daarvoor nie. Ek weet wat jy soek.” Sy stem word streelsag. “Ek soek dit
ook, en ek is nie skaam om dit te erken nie. Gister se massering het
allerhande idees in my kop losgemaak, en jy het my nie ’n kans gegun om jou
my tegniek te wys nie.”
“Jy is mal! Jy weet nie waarvan jy praat nie.” Sy draai haar rug ergerlik op
hom. Hy moet ophou om hom slim te hou. Hy sien goed wat nie bestaan nie.
Sy wil niks van hom hê nie. Hy het sy kans gehad, en dit deeglik verbrou. Hy
gaan haar nie in sy bed kry nie. Oukei, sy is reeds hier, maar dit beteken nie
sy soek sy lyf nie. Oukei, dis ook nie heeltemal die waarheid nie. Sy soek sy
lyf, maar sy gaan dit nie erken nie. Sy het haar trots.
Sy sit weer regop. Sy gaan die duvet om haar vou, en uitstap asof niks
skort nie. Sy gaan haar nie steur aan haar binnegoed wat bewe soos iemand
wat kouekoors het nie. En dit terwyl haar lyf vuurwarm voel nie. Sy loer na
sy kaal bolyf. Sy beter hier wegkom, besluit sy onomwonde. Die duiwel wil
haar nou in ’n lokval lei. Sy het haar swakhede, maar sy het ook tonne
selfbeheersing. Driftig trek sy die duvet nader, maar dit haak vas. Sy verloor
haar balans en tuimel terug, teen sy harde lyf. Sy onderdruk ’n moedelose
kreun en bly lê.
“Eva, lê stil of klim uit.” Sy stem is skor.
Sy lig haar kop. Hy staar voor hom uit, en sy sien net bultende kake. Dit
lyk of hy sukkel om asem te haal.
“Wat is fout?” Het sy per ongeluk sy wind uitgestamp? Maar sy was nie
naby sy ribbes nie.
Sy asem beweeg sidderend deur sy lippe. “Jy wriemel teen my, en ek het
nie jou wilskrag nie.”
Sy sluk vervaard. “O.” Sy sit penregop, haar rug op hom gekeer. Haar kop
is wollerig, en haar lyf is lam. Wat moet sy nou doen? O ja, sy moet wegkom.
Haar hand vou om die duvet. Sy hoor hom beweeg, en sy vries. Dié keer kan
sy nie haar kreun onderdruk toe sy sy asem warm teen haar rug voel nie. Haar
hande klou verbete aan die duvet, sy soek ’n anker, voor sy val. Voor sy
ingee. Haar brein stribbel teë, eis dat sy opstaan, uitstap. Haar liggaam speel
nie saam nie, onthou net die vervulling wat sy in sy arms geken het, die
ekstase wat sy nooit weer kon vind nie. In hulle bed was daar nooit
misverstande nie. Net plesier. Hier het hulle mekaar ten volle aangevul. Sy
gaan nie langer daaroor lieg nie, sy mis dit ontsaglik. Hier was dit veilig. Die
harde realiteit van die wêreld het nie vastrapplek gekry nie. Hier was niks wat
hom van haar kon wegvat nie.
Sy hand vou om haar skouer, druk haar saggies terug teen die kussing. Sy
stribbel nie teë nie, hou net haar blik op sy bolyf. Sy kan hom nie in die oë
kyk nie, sy wil nie sy emosie sien nie. Sy wil nie hare wys nie. Dis veiliger
so.
Haar oë dwaal oor sy breë skouers, sy biseps, sy plat maag. Hy is so mooi.
Hy is so perfek. Haar hande jeuk om aan hom te vat, om die hardheid van sy
lyf weer onder haar vingers te voel. Haar mond wil die sout van sy vel proe,
sy smag om sy unieke reuk in te asem. Te lank was sy daarsonder. Dit was
soos ’n dwelm wat van haar weerhou is. Vir lank moes sy stry teen die
bytende behoefte na hom, wat haar omtrent uitmekaar wou skeur.
Hy lig haar ken, dwing haar om na hom te kyk. Sy sien die warm begeerte
in sy donker oë, net voor sy mond die holte van haar nek vind. Sy sprei haar
arms langs haar uit, haar hande bal in vuiste. Sy kerm saggies. Sy moet
weerstand bied, maar dis so moeilik. Haar kop wil nie dink nie, wil haar nie
hier uitkry nie. Sy staar na die plafon, magteloos teen die begeerte wat in haar
kolk. Sy keer nie toe sy hande haar bra se bandjie wegstoot nie.
“Jy moenie meer gewig verloor nie, jy is pragtig soos jy is,” sê hy amper
mymerend. Sy mond vee oor haar skouer, beweeg laer na die ronding van
haar bors. “Dis verdomp moeilik vir my.” Sy stem is nou ’n sagte fluistering.
“Ek wil jou sagkens verlei, maar terselfdertyd wil ek jou ook verorber.”
Sy verstyf, en kom effens tot verhaal. Dis nie reg nie. Sy mag dit nie
toelaat nie. Hulle mag nie die lyn oorsteek nie. Dit kan alles verander. En dit
mag nie verander nie. Dit het sy haar voorgeneem, elke nag toe sy alleen en
koud in haar bed gelê het. Daar is nie plek vir tweede kanse nie. Of tydelike
afwisseling nie. En wat van haar voorneme van gister?
Sy druk hom ru weg en spring van die bed af. Sy kyk nie terug nie, stap net
verbete na haar kamer. Eers toe die deur agter haar toeslaan, kan sy weer
behoorlik asemhaal. Moedeloos sak sy op die vloer neer. Amper was dit ’n
massiewe katastrofe. Iets waaruit sy haar met moeite sou wikkel. Hoekom wil
sy intiem verkeer met die man van wie sy gaan skei? Dis mos abnormaal. Sy
moet haar kop begin gebruik. As sy in een stuk hieruit wil kom.

“Eva?”
Afgetrokke draai Eva om en kyk vraend na Tom. “Ekskuus, ek het nie
gehoor wat jy sê nie?”
Tom kyk bekommerd na haar. “Ek kom so agter. Jy staar so verwese by
die venster uit, dit lyk behoorlik asof jou wêreld ten einde gaan kom. Wat is
fout? Is jy siek?”
“Nee, ek is doodreg. Kon jy hulle in die hande kry?”
“Nee, Nico se prokureur antwoord nie sy selfoon nie, en sy sekretaresse
het nie die vaagste idee waar hy is nie. Antwoord Nico nie?”
“Nee, en ek het ’n klomp boodskappe gelaat.” Sy sak op die naaste stoel
neer. Haar bene voel loodswaar. “Kom ons wag nog ’n ruk, dis darem net ’n
halfuur na die beplande afspraak. Is jy seker jy het die tyd reg?”
Hy kyk na haar asof dit nie eens ’n antwoord regverdig nie. Hy trek sy lêer
nader. “Kom ons gebruik die tyd om weer na die feite te kyk. Is jy seker jy
wil net die dakwoonstel hê? Ons kan vir meer vra. Jou man is ’n biljoenêr en
daar is nie ’n voorhuwelikse kontrak nie. Ek kan amper nie glo hy was so
dom nie, sy prokureur het seker ’n hartaanval gekry toe hy uitvind. Behalwe
die seiljag, die motorfiets en die dakwoonstel, besit hy ’n klomp ander
woonplekke. ’n Chateau en hotel in Italië, woonstelle aan die weskus en in
Manhattan, en ’n wynplaas in Frankryk. Dan is hy ook
meerderheidsaandeelhouer in twee internasionale maatskappye, hy besit ’n
aantal woonstelblokke en kantoorgeboue ...”
Sy onderbreek hom beslis. “Dankie, Tom, maar ek weet van die goed.
Hoekom dink jy het ek met hom getrou?”
Daar is ’n oomblik van geskokte stilte.
Sy glimlag skeef. “Dis ’n grap, Tom.”
Hy lag. “Jy het my nou behoorlik gesnoeker. Ek dag jy is ernstig. Ons
behoort die dakwoonstel vir jou te kry, maar ons kan altyd vir meer vra.”
Sy skud haar kop beslis. Sy is nie gierig nie, sy voel reeds skuldig oor die
woonstel, maar sy wil nie die plek opgee nie. “Nee, dis al wat ek wil hê.”
Hy kug. “Terwyl ons wag, wil ek jou sommer vra of jy my volgende week
na ’n formele geleentheid in die stadsaal sal vergesel. Dis om erkenning te
gee aan mense wat rojaal tot liefdadigheid bydra.”
Sy frons. “Ons het dan saam besluit ons gaan dit ’n bietjie rustiger vat. Ek
wil nie my skeisaak kompliseer nie.”
Hy skud sy kop beslis. “Niemand kan ’n vinger na ons wys nie. Ons
gedrag is nog heeltyd onberispelik en net Nico het die reg om te kla, maar hy
lyk heel gemaklik met die situasie. Kyk maar hoe vinnig het sy prokureur die
lys bates aangestuur. Dis nie hoe iemand optree wat wil oorlog maak nie. Ek
vermoed ons gaan ’n onbetwiste saak hê.”
Onbetwiste saak? Sy hoop hy is reg. Sy kan nie meer wag om as ’n vry
vrou uit die hof te stap nie. En miskien moet sy hom maar vergesel? Sy sal
tog niemand in sulke uitgelese geselskap ken nie. Daardie dae is verby.
“Oukei, ek gaan saam, maar nog net hierdie keer.”
Sy selfoon lui. Hy stap uit, en is kort daarna terug. “Dis Nico se prokureur.
Iets dringends het voorgeval en hulle gaan nie die afspraak nakom nie. Hy
wil die vergadering tot volgende Maandag twaalfuur uitstel.”
Sy sug moedeloos. “My hele Saterdag is opgemors, ek kon massas werk
afgehandel het. Ek het Nico vlugtig vanoggend gesien, hy kon my gerus
gewaarsku het.”
“Toe was hy seker nog van plan om te kom.”
Sy kyk verbaas na Tom. Sy betaal hom nie om verskonings te soek vir
Nico nie. Hy vryf oor sy maag. “Sal ons iets gaan eet? Ek is doodhonger.”
Sy staan op. “Nee, ek het nog ’n paar goed wat ek moet doen. Ek sien jou
volgende Maandag. Nico beter dié keer opdaag, anders verhoog ek sommer
my eis. Ek wou nog altyd vakansie hou in Amerika, die woonstel in
Manhattan klink na ’n lekker plek om te bly.” Sy groet en stap na haar kar.
Sy gaan nie terug kantoor toe nie, want sy gaan net haar tyd mors. Sy kan nie
op haar werk konsentreer nie. Sy het haar vir die ontmoeting gestaal, was reg
vir ’n bekgeveg, en het tog gehoop vir ’n vreedsame ooreenkoms. En nou is
daar nog niks op die tafel nie. So kan sy nie aangaan nie. Sy moet ’n einde
hieraan maak en die gedagte maak haar sommer melankolies.
Vandat sy in sy bed wakker geword het, vermy sy hom soos die pes. Sy
gaan nie haar skeisaak opfoeter nie. Sy bly uit die pad van versoeking. Sy
gaan dit maar erken, hy is soos ’n dwelmmiddel vir haar, sy smag na hom, na
sy nabyheid, sy aanraking, sy warmte. En daarom bly sy weg van hom af. Of
eerder probeer wegbly, want hy help nie veel daarmee nie.
Hy tree op of niks aardskuddend gebeur het nie. Hy het haar opgewonde
geroep toe sy meubels afgelaai is. Sy kon nie anders as eerlik met hom wees
nie, sy keuse het die strak lyne van haar dekor opgevrolik. Hy hou haar op
hoogte van sy kantoorsoekery, kla by haar omdat hy nêrens ’n smaakvolle
plek kan kry nie. Ten minste kom hy nie naby haar nie, raak nie eens aan haar
nie. En dit veroorsaak dat haar frustrasie nuwe hoogtes bereik.
Sy vlug wanneer sy vriende opdaag, werk nog langer ure in haar kantoor,
en heeltyd sit sy met die knaende vrees in haar, doen sy die regte ding? Is
egskeiding die oplossing?
Sy ry stadig na die woonstel. Orals sien sy verliefde paartjies. Vir die
meeste mense is daar ’n maat. ’n Sielsgenoot. Wat van haar? Is daar iewers ’n
man sonder gelyke, die perfekte een vir haar? ’n Man wat by haar, met al
haar nukke en grille, sal pas? Sy sug moedeloos. Sy weet nie so mooi nie,
waar kry ’n vrou so ’n spesiale man?
Haar maag grom. Sy is ook honger, miskien moes sy saam met Tom gaan
eet het. Net vir geselskap. Net om voor te gee sy is nie alleen nie. Maar dis
nie ’n vreemde ervaring vir haar nie. Sy is meestal op haar eie, in haarself
gekeer, terwyl sy ’n front vir die wêreld voorhou dat alles onder beheer is. En
intussen was die krake lankal besig om te vorm, en alles het maar net
inmekaar begin tuimel toe Nico opdaag.
Toe sy ’n oop parkeerplek sien, hou sy stil. Sy gaan sommer hier eet, haar
spens is leeg, en sy is nie lus vir haar eie geselskap in die leë woonstel nie.
Hier krioel dit van jongmense, en vir die eerste keer in ’n lang ruk soek sy na
aksie, wil sy deel wees van die opwinding. En net die oomblik geniet.
Sy stap by die eerste beste eetplek in en huiwer half verbaas toe sy besef
watter restaurant dit is. Die plek bars uit sy nate, en sy moet tevrede wees met
’n tafel in ’n ongemaklike hoekie. Sy kyk nie eens na die spyskaart nie, sy
weet wat sy wil hê. Nico het gereeld hier gekom, sy nie so baie nie. Dit was
sy gunstelingkuierplek, glo die enigste Italiaanse restaurant met kos wat proe
soos sy ouma s’n. Die plek was te lawaaierig na haar smaak. Wat soek sy dan
nou hier?
Die hoektafel gee haar darem ’n ordentlike uitsig oor almal se kom en
gaan. Dit laat haar minder alleen voel. Drie jongmeisies kom ingestap. Sy
herken dadelik twee van hulle, dis die meisies met wie sy by Vicky se
skoonheidskliniek gesels het. Die wêreld is bitter klein. Sy wonder of hulle
Nico ooit gekontak het. Sy hoop nie so nie.
Hulle lyk sorgeloos en opgewek. En hulle hou die mans se aandag sover as
wat hulle loop. Was sy ooit so? Soms voel sy dekades ouer as wat sy werklik
is, asof sy meer as een leeftyd in haar twee en dertig jaar geleef het. Is dit wat
gebeur as ’n mens die lewe te ernstig opneem, as jy die lewe deur ’n
verwronge bril beskou? Dis sommer nonsens, besluit sy. Die melankolie
moet end kry. Sy is jonk, die wêreld wag op haar. Die probleem is sy weet
nie eens hoe die verdomde wêreld lyk nie. Sy is heeldag tussen die vier mure
van haar kantoor vasgekluister. Dis dalk tyd om haar roetine te verander.
Waar is die kleintyddrome om veraf plekke te besoek, ander kulture te leer
ken? Om te lewe? Sy wil nie soos haar arme ma na die bottel gryp om te
vergeet van haar miserabele bestaan in ’n klein kamertjie met ’n kind wat sy
nie wou gehad het nie, en sonder die man wat haar nie wou hê nie. Is haar
lewe werklik soveel anders? Sy wou meer as haar ma bereik. Sy wou
suksesvol wees, en sy is dit. Maar tog is daar ooreenkomste. Sy het ook vir
die verkeerde man lief geword. Sy wou net nie vir ewig oor hom treur nie.
Daarom het sy hom vinnig uitgewerk. Voor sy dieselfde pad as haar ma kon
stap. Maar het sy die regte ding gedoen? Verwar sy Nico nie met haar pa nie?
Want dit sal dom wees. Hulle verskil hemelsbreed. Sy sug swaar. Sy krap
nou te veel, en dit kan net seermaak.
Haar blik verskuif na die twee duur sportmotors wat kort na mekaar half op
die sperstreep voor die eetplek stilhou. Die een is bloedrooi en sy herken die
beroemde Ferrari-wapen, die gele se fabrikaat ken sy nie. Die motors trek
almal se aandag, selfs hier waar die superrykes uithang. Twee mans klim uit
die geel sportmotor, jonk en aantreklik, en net aan die beste gewoond, lei sy
van hulle ontwerpersklere en motor af.
Sy sit skielik penorent. Bedrieg haar oë haar, of is dit Nico wat uit die
Ferrari klim? Is dit waar die swernoot uithang? Nou weet sy watter krisis hy
moes hanteer, hy moes betyds wees om sy duur speelding te gaan haal. Sy
staan op. Vandag is die dag dat sy hom behoorlik laat les opsê. Hy kan nie
hiermee wegkom nie. Sy gaan sit weer. Miskien is dit nie so ’n briljante idee
om soos ’n tierwyfie voor ’n skare te kere te gaan nie, behalwe as sy ’n
spektakel van haar wil maak.
Sy sak weg in haar stoel. Miskien is dit beter as hy haar glad nie sien nie.
Nie terwyl sy stoksielalleen in ’n besige eetplek sit nie. Netnou kry hy die
skewe idee sy het nie vriende nie.
Die drie mans stap in en pyl op die drie jongmeisies af. Die meisies het
hom dus gebel, en hy laat ook nie op hom wag nie. Sy hou die opgewonde
groetery dop. Soort soek soort. Niks gaan daaraan verander nie. Sy moet
maar vrede maak daarmee. Sy sal nooit deel wees van daardie sprankelende
groep nie, al wou Nico haar akkommodeer.
Kelners draf nader en neem fluks hulle bestellings. Oorbluf beskou sy die
rumoer. Sy het nie sulke flinke diens gekry nie. Wrewelig kyk sy na die twee
sportmotors wat op die sperstreep staan. Sy hoop die verkeerspolisie sleep sy
kar weg, hy wil mos so blatant die landswette verbreek. Oukei, as sy mooi
kyk, is sy motor nie op ’n sperstreep nie, net die gele. Maar nogtans. Sy kyk
weer na die jolige groep en sug gelate. Natuurlik klou die donkerkoppie aan
Nico. Sy het Nico skynbaar ’n guns bewys deur sy nommer vir haar te gee.
Sy tel haar handsak op, dis tyd dat sy padgee. Sy gaan nie vir haar kos wag
nie. Sy voel omtrent soos ’n vitterige oujongnooi, en dit wil sy allermins
wees. Sy sluk haar gegeurde water weg, en staan doelgerig op. En skree
amper hardop van frustrasie. Hoekom moet dit juis die oomblik wees wat hy
in haar rigting kyk? Hy lyk verbaas, en dan sien sy iets wat soos onsekerheid
lyk. Sy lag amper hardop oor die gedagte. Waar op aarde kom sy daaraan?
Nico kan nie die woord onseker spel nie. Hy is gebore met ’n oormaat
selfvertroue, en as ’n mens net na hom kyk, kan dit seker nie anders nie.
Hy sê iets vir die groep, en stap nader. “Eva, dis ’n verrassing. Saam met
wie is jy hier?”
Sy val dadelik aan om haar ongemak te verskuil. “Ek hoop nie jy dink ek
agtervolg jou nie. Ek was eerste hier.”
Hy lag verras. “Ek glo jou. Daarvoor probeer jy te hard om van my ontslae
te raak.”
“Ek het meer as ’n uur vir jou by Tom se kantoor gewag. Waar was jy?”
Hy klap sy vingers. “Ai, ek het vergeet van ons afspraak.” Hy lyk nie baie
gepla nie, en wys na die venster. “Het jy my nuwe kar gesien? Ek kon nie
wag om my hande daarop te lê nie. Jy kan dit tog nie teen my hou nie.”
“’n Mens kan dit nie miskyk nie. Dis amper rooier as die streep waarop jou
vriend parkeer het.”
Hy wys na haar leë glas. “Volgende keer moet jy hulle tog vra om minder
suurlemoensap in jou drankie te gooi.”
Sy trek haar rug styf. “Sal jy my verskoon, ek is op pad.”
Die kelner kom aangestap met haar kos, en sy beloon hom met ’n vuil kyk.
Sy tydsberekening is pateties, en sy is uitgevang.
Nico kyk verbaas na die kos. “Lasagne, my gunsteling. Ek kan nie onthou
dat jy daarvan hou nie.” Gelukkig sê hy niks oor haar witleuentjie nie, anders
het die bord kos dalk op sy kop beland.
“’n Mens se smaak verander met tyd.” Sy probeer ongeërg klink. Wat het
haar besiel om die gereg te bestel? Hy is reg, sy hou nie van lasagne nie.
Maar sy hou ook nie van die eetplek nie, en hier is sy. In al haar glorie.
Miskien moet sy ophou om haar optrede te ontleed, sekere goeters moet ’n
mens maar net weggesteek los.
“Ek is bly ons het darem nou iets gemeen,” terg hy en trek ’n stoel uit.
Sonder om haar toestemming te vra, begin hy lustig aan haar bord kos weglê.
Sy sit weer. Dis ’n ou truuk van hom, hy hou daarvan om haar kos op te eet.
In ’n stadium het sy gedink dis oulik, maar nou beskou sy hom wrewelig.
Hy moes haar reaksie gesien het, want hy glimlag skeef. “Wil jy ’n happie
hê?” Hy bring die vurk tot by haar mond.
Sy skud haar kop beslis. “Nee, dankie, ek is nie meer honger nie.” Die geur
laat haar maag egter grom.
Hy lig ’n skeptiese wenkbrou, maar eet lustig voort. Tersluiks hou sy hom
dop, teen haar wil gefassineer. Haar blik streel oor sy sterk profiel, sy bekyk
sy blinkdonker hare wat partykeer so wild kan krul, en wat weer vandag so
netjies lê. Sy huiwer langer by sy sensuele lippe. Sy vrek oor sy soene, dis
een deel van die voorspel waarvan sy nooit genoeg kon kry nie. Mond teen
mond, liggies en dan meer intiem. Soms speels. En dan weer intens. Hy het
nooit moeg geraak om haar te liefkoos nie. Op haar lippe. En sommer orals.
Haar hart gee ’n wilde skop, en ongemaklik laat sak sy haar oë na sy breë
skouers. Hy is te aantreklik vir woorde. ’n Uitsonderlike man. Hy kon die
mooiste en sprankelendste vrou kies. Hoekom het hy haar dan gevat? Haar
spieël lieg nie. Sy weet daar is niks uitsonderliks of spesiaal aan haar nie. Al
het hy haar gedurig van die teenoorgestelde probeer oortuig.
Toe die bord leeg is, sit hy tevrede terug. “Dit was manjifiek. Ek het
vanoggend laas geëet, ek skuld jou.”
“Jy kan vergoed deur vir die afspraak met ons prokureurs op te daag.” Sy
weet sy het weer die verkeerde ding gesê, toe hy haar skeef aankyk. “Ek gaan
my bes doen,” antwoord hy kortaf. Hy roep die kelner nader en bestel koffie.
Sy kyk in die rigting van sy geselskap, en die donkerkop loer in hulle
rigting. “Jou vriendin soek jou.”
Hy kyk nie eens soontoe nie. “Ek soek haar definitief nie. Jy kon nie op ’n
meer geleë oomblik verskyn het nie.”
Sy frons verras. “Hoekom?”
“Ek voel behoorlik of ek ’n stalker het. Die vroumens bly my aanhoudend
bel, die hemel weet waar sy my nommer gekry het, en sy verstaan nie plein
Afrikaans nie. Ek stel nie in haar belang nie, ek wil haar nie ontmoet nie, ek
is getroud. Ek weet nie hoeveel keer moes ek die refrein herhaal nie, maar sy
hoor my nie.” Hy skud sy kop vies. “Toe ek vir ’n paar dae nie van haar hoor
nie, dag ek ek het haar afgesit. En hier duik sy op. Op een of ander duistere
wyse het sy ook uitgevind wie my vriende is, en hulle oortuig ons moet
mekaar hier ontmoet. Ek sou nooit my gesig hier gewys het as ek geweet het
sy is hier nie.”
Eva word yskoud. Dis waarvoor sy bang was. Hopelik sal dit haar leer om
nie impulsief te wees nie. Moet sy hom die waarheid vertel? Die kelner
bedien die koffie, en dit gee haar ’n paar broodnodige minute om tot verhaal
te kom. Iewers gaan hy uitvind, dis beter dat hy dit uit haar mond hoor.
Hy kyk bekommerd na haar. “Wat is fout? Jy lyk nie lekker nie.”
Sy sluk benoud. “Ek het jou nommer vir haar gegee.”
“Jy het wat?” Sy bulderende stem laat koppe in hulle rigting draai.
Sy haal haar skouers op. Hy het haar gehoor.
Hy sit regop. “My magtig vroumens, wat het jou besiel? Ek kan nie glo
wat ek hoor nie. Hoe kon jy so dom wees? Hoeveel keer het ek jou
gewaarsku om nie met vreemdelinge oor ons te praat nie? Dit was nie net om
die paparazzi te vermy nie, maar ook oor die tipe ding. Vicky moes ’n
interdik teen ’n man kry wat haar nie wou uitlos nie, en nou gooi jy my
sowaar vir die haaie. Hoe kon jy so iets doen?”
“Jy het dit begin,” lig sy hom opstandig in. Sy kyk hom nie in die oë nie.
Sy weet sy het verbrou, maar sy wil dit nie hoor nie.
“Verduidelik vir my daardie redenasie, want my kop kan dit nie kleinkry
nie.”
“Jy het Tom opgesteek om vatterig te raak, en toe daag jou familie daar op,
en ek lyk soos die idioot.”
“Ek het ’n grap met hom gemaak. Ek het nie verwag hy gaan my ernstig
opneem nie. En hoe kon ek beplan om juis op die oomblik in te stap toe julle
mekaar op die vloer beetkry? Jou optrede is kleinlik om die minste te sê. Voel
jy beter noudat jy weet in watter gemors jy my laat beland het?”
“Ek is jammer, ek het nie gedink sy sal jou regtig bel nie. En ek het dit
dadelik berou, maar toe was dit te laat.”
Hy kyk lank na haar, en wat hy ook al in haar oë sien, stel hom tevrede,
want hy ontspan effens. “Jy sal moet opmaak hiervoor.” Sonder meer haak hy
sy hand om haar nek en trek haar nader. Sy lippe sluit oor hare.
Sy beur weg, staar verslae na hom. Dan vind sy weer haar stem. “Is jy
mal? Wat dink jy doen jy?” proes sy dit uit.
Hy glimlag sardonies. “Ek soen my vrou. Dis mos nie ’n oortreding nie, en
hopelik kry daardie meisiemens nou die boodskap dat ek nie belang stel nie.”
Die kelner kom skink weer hulle koppies vol terwyl sy in ’n patetiese
bondel langs hom bly sit. Sy wil vlug, maar sy weet nie waarheen nie. Sy wil
net wegkom van die onophoudelike worsteling in haar. Sy is mal oor sy
soene, oor sy nabyheid. Maar dan weet sy watter pynlike prys sy gaan betaal
as hy haar weer los. Daarom wil sy hom liewer nie in haar lewe hê nie, maar
sy wil haar ook nie ’n lewe sonder hom indink nie.
Hy kyk afgetrokke voor hom uit, dan draai hy skielik na haar. “Onthou jy
die dag toe ons ontmoet het? Ek het jou van my balkon af dopgehou. Jy het in
die tuin gestap, en jy het ’n helderpienk rolnektrui met ’n nousluitende swart
broek aangehad. Die wind het jou krulle wild gewaai, en jy het laggend jou
hare uit jou gesig gevee. Toe kyk jy op en sien my raak, en die glimlag het op
jou lippe verstil. My knieë was lam, dit het gevoel of ’n vuishou my op my
maag getref het. Gelukkig was daar ’n balkonreling waarteen ek kon leun
sodat ek nie soos ’n stommerik neerslaan nie. Op daardie oomblik het ek
besef waarvoor ek op aarde is. Ek wou die trappe afhardloop, voor jou kniel,
en my ewige liefde aan jou verklaar. Ek sal die oomblik nooit vergeet nie.”
Hy sug. “Die ander onvergeetlike oomblik is die een toe jy in ’n
eenvoudige, skouerlose wit rokkie, met sulke oulike skerppuntskoene aan jou
voete en ’n bos bloedrooi rose in jou hand, langs my in die hof gestaan en ons
twee ewige trou aan mekaar gesweer het. Dit was die perfekte oomblik in my
lewe.”
“Toe leer jy my beter ken en kom agter ek is nie perfek nie.” Sy probeer
die trane wegknip. Sy moenie vir sy mooi woordjies val nie. Hy moenie haar
laat twyfel oor haar besluit deur haar te herinner aan wat tussen hulle was nie.
Hy skud sy kop heftig. “Ek soek nie ’n perfekte vrou nie, Eva! Ek soek net
’n normale vrou, ’n maat, ’n sielsgenoot. Ek was oortuig ek het haar gevind,
maar ongelukkig het ander goed dit vir ons kom opdinges.”
“Ons verskil te veel. Dis nie nét goed nie.”
Hy kyk ernstig na haar. “Baie getroude pare verskil, maar hulle het genoeg
liefde om dit te laat werk. Hoekom moet ons soveel anders wees?”
Sy laat sak haar blik. Hoekom bly hy hieroor karring? Dis oor en verby.
Die liefde is lankal nie meer daar nie, nie as hy vir maande nie kontak maak
nie. “Ons mors ons tyd om hieroor te praat. Jy het agtien maande gelede jou
kans gehad om te praat, maar jy het verkies om op jou seiljag te klim en deur
die wêreld te gaan toer. Nou is dit te laat om te wonder oor wat alles verkeerd
gegaan het, en hoe ons dit kon regmaak.” Sy vat weer ’n sluk van die warm
koffie, voor haar stem heeltemal breek. Sy moet hier wegkom, voor hy haar
’n gat in die kop praat. Sy gaan net seerkry, en sy het meer as haar kwota
daarvan gehad. Sy gryp haar handsak, gooi ’n paar note op die tafel.
Sy laaste woorde bly haar by terwyl sy wegry: ”Enigiets kan reggemaak
word, solank daar die wil by albei is om dit te doen.”
Nege
Eva stap ongeduldig na die ontvangslokaal. Iewers is daar ’n onheilige
boorgeluid wat haar op ’n kortpad na die malhuis stuur. “Wie raas so? Ons
bure behoort te weet hulle het my toestemming nodig as hulle herstelwerk in
werksure doen. Geen mens kan met sulke geraas werk nie.”
Betsie kyk verbaas na haar. “Dis nie langsaan nie, dis in die stoorkamer.”
“Stoorkamer, watter stoorkamer?”
“Ons stoorkamer. Jou man rig sy kantoor daar in. Het hy jou nie vertel
nie?”
Eva gaap haar aan. “Jy trek seker my been.”
Betsie haal haar skouers ongeërg op. “Gaan kyk maar gerus.”
“Ek weet niks hiervan nie.” Eva marsjeer na die stoorkamer aan die einde
van die gang. Die deur is halfpad oop, en die boorgeluid word harder. Sy
druk teen die deur, en ’n ouerige man loer oor sy skouer.
“Wat gaan hier aan? Wat dink jy doen jy?”
Hy kyk haar aan asof sy van ’n ander planeet af kom. “Dame, moenie my
kop afbyt nie. Ek doen net wat ek betaal word om te doen. Vra die baas.”
“Wie is jou baas?” Sy druk harder teen die deur, en hy beweeg weg. Die
deur swaai oop, en Nico kyk verras op vanwaar hy voor ’n kabinet kniel. Hy
skakel die boor af en staan op. Sy knieë is rooi waar hy op die mat gedruk
het, maar dis sy kaal skouers wat haar aandag hou. Sy weet nie waar hy die
moulose T-hemp uitgekrap het nie, seker op dieselfde plek as sy gehawende
kortbroek, wat hy ook weer aanhet. Die hemp is lankal verby sy vervaldatum,
en dis definitief nie gemaak vir sy grootte lyf nie. Die materiaal span oor sy
borskas, en asof dit nie erg genoeg is nie, is daar ’n oormaat vel en spiere op
vertoon. ’n Sweterige en stowwerige man is nie veronderstel om aanloklik te
wees nie, waarom dan die onverklaarbare sametrekking in haar lyf? Hoekom
voel sy so warm, en klop haar hart skielik vinniger?
“Wat gaan hier aan?” prewel sy.
Nico kyk veelseggend na sy helper. Die man sit sy gereedskap neer. “Ek
moet gou nog ’n paar spykers gaan koop.” Met dié flou verskoning stap hy
uit en trek die deur agter hom toe. Die ruim vertrek is skielik drukkend
bedompig, en Nico amper oorweldigend groot. Sy soek spasie tussen hulle,
en sy tree weg. En struikel oor iets. Sy hand is vinnig by om haar regop te
hou. Vies kyk sy na die bokse met fotostaatpapier wat agter haar staan. Haar
netjiese stoorkamer is in chaos omskep. Orals staan meubelstukke en
toerusting. Haar voorraad is lukraak eenkant toe gestoot. Waar dink hy moet
dit nou heen?
Sy kyk vies na hom, en hy glimlag tevrede. “Ek rig my kantoor in. Hier is
genoeg plek vir my en my assistent, en oor drie maande trek die mense
langsaan uit, en neem ek hulle area ook oor. My makelaars kan dan daar
intrek. Ek kan nie vir ’n beter reëling vra nie.”
Sy staar verstom na hom. Is die man van sy sinne beroof? “Dis absurd!”
kryt sy dit uiteindelik uit. “Jy kan nie net hier intrek nie. Jy moet eers my
toestemming kry, en dan kon ek jou vroegtydig gewaarsku het dit kan nie
werk nie. Ons kan nie twee besighede uit een klein kantoortjie bestuur nie.”
Hy lag onboetvaardig. “Daar is niks kleins aan die kantoor nie, en ek kry
mos die kantoor langsaan. Ek wou dit as ’n verrassing vir jou hou. Jy kla mos
oor my spandabelrigheid, nou gaan jy sien hoe spaarsamig ek kan wees. Dink
net aan die voordele, ons deel die huur, die ontvangsdame en die onderhoud
van die kantoor. Ons gaan tonne spaar.”
Sy kyk hom agterdogtig aan. Wat is werklik hier aan die gang? Hy kan tog
nie so opgewonde wees net om ’n kantoor te hê, en een wat nogal langs hare
is nie. Dit kan mos nie werk nie, enige aap kan dit sien. Besef hy wat dit
beteken? Hulle mag miskien tonne spaar, maar sy gaan nie lank genoeg
oorleef om dit te geniet nie. Hy sal haar na haar graf toe dryf as sy elke dag in
hom moet vasloop, as sy elke intieme detail van sy lewe moet aanhoor, hom
saam met ander vroue moet sien. Soos sy hom ken, sal hy haar nog na sy
troue nooi, net omdat hy dinge onderstebo doen.
Die hemel bewaar haar van sulke lyding. Die gedagte is skrikwekkend. Dis
nie hoe ’n egskeiding kan werk nie, nie die een wat sy in gedagte het nie. Die
idee is dat hulle mekaar heeltemal moet vermy. Sy sal hom dalk vir sy
verjaardag bel, maar dis dit. Dis die manier waarop sy weer haar lewe in
eerste rat gaan kry. Die erkenning is nie maklik nie, maar sy kan dit nie
langer ignoreer nie. Sy is veronderstel om oor hom te wees, dis waarvan sy
haar telkemale probeer oortuig, maar iets waarsku haar dat sy vir haarself
lieg, dat daar baie meer in haar hart lê as wat sy bereid is om te erken. Sy
opmerking by die restaurant spook by haar. Sy weet nie hoe om dit te
interpreteer nie, en sy wil nie haar eie gevoelens daarteen meet nie. Want dan
gaan sy weer die pad byster raak.
Sy wens soms hy wil dit weer ophaal. Hulle sien mekaar gereeld, wel vir
kort rukkies, maar hy verwys nooit weer daarna nie. Was dit net ’n los
gedagte? Of probeer hy sê dat hy nie die skeiery wil hê nie? Sy is radeloos,
want sy weet nie wat in sy kop aangaan nie. En om alles te kroon, trek hy
langs haar in. Dis al wat sy nodig het om haar finaal oor die rand te stoot.
“Wat is fout? Jy lyk bleek?” Besorg vat hy haar hand.
Sy probeer losruk, maar hy hou stywer vas. “Niks ... ek is reg. Jy betrap
my net heeltemal onkant.”
Hy kyk verras na haar. “Ek wou jou nie omkrap nie. Jy moet sê as jy my
nie hier wil hê nie.”
Sy kyk skuldig weg. Sy trompop benadering verbouereer haar. “Dis nie dit
nie.” Hy sal dink sy is simpel as sy hom vertel hoe sy voel. “Ek is net bang
ons val oor mekaar se voete.”
Hy skud sy kop. “Nee wat, ons sal uit mekaar se pad bly. Ons is te besig
om heeldag oor en weer te kuier, maar dink net hoe lekker gaan dit wees om
saam te werk. Dis mos wat jy nog altyd wou hê, nie waar nie? My rondlêery
het jou mos mal gemaak.”
“Dit was toe ons getroud was, maar nou gaan ons skei. Dit kompliseer
dinge as ons bure is.”
“Dit pla my nie. Ons is tog nie vyande nie?”
“Nee, ons is seker nie,” erken sy gelate. Sy moet dit maar deursien.
Miskien raak hy oornag verveeld met die nuwigheid, en gaan soek weer iets
opwindend op ’n ander plek. Sy bid dat die dag blitsvinnig kom.
Sy kyk af. Na sy hand wat hare vashou, sy duim wat oor haar pols streel.
Sy kyk op. Nee, hulle is nie vyande nie. As hulle maar was. Dan sou sulke
opwinding nie in haar lyf begin groei nie, dan sou sy nie begeer het om nader
te beweeg, haar lyf teen syne te druk, haar mond ... Hy moes iets in haar oë
gesien het, want hy praat vurig in Italiaans, maar sy kan nie kop of stert
daarvan uitmaak nie. Dit klink asof hy haar van iets beskuldig. Sy kan ook
nie vra nie, want hy trek haar ru nader en sy lippe eis hare op.
Haar bloed druis deur haar are, haar hande vind sy kop, strengel in sy
syagtige hare, en forseer sy kop nog nader. Sy skrik vir die hongerte in haar,
die aggressie waarmee sy sy soen beantwoord, haar hande oor sy lyf laat
gaan. Sy het amper vergeet hoe die hardheid van sy spiere onder haar
strelende hande voel, hoe meesleurend die krag is waarmee hy haar
nadertrek, haar teen sy sterk lyf forseer, hoe bedwelmend sy manlike reuk.
Dis hy wat haar effens wegstoot. Sy asem jaag en sy oë is donker van
begeerte, maar sy blik beweeg na die toe deur. Hy moes iets gehoor het, want
die deur gaan oop. Eva tree vinnig weg, probeer tevergeefs om haar emosies
onder beheer te bring.
Sheila stap in, ’n glas water in haar hand, onbewus van die gelade stilte.
“Hier is jou water.”
Nico forseer ’n glimlag. “Dankie, jy is ’n lewensredder. Ek het vergeet hoe
dors ek is.” Hy kyk vinnig na Eva, maar sy ontwyk sy blik.
Sheila loer skuldig in Eva se rigting, maar sy hou haar gesig
uitdrukkingloos. En sy stap uit. Dit is presies wat sy probeer vermy. Hulle
kan mekaar nie so beetkry as hulle gaan skei nie. Tieners het meer
selfbeheersing.
En dis nie al wat haar die josie in maak nie. Sheila mag seker vir hom
water aandra, maar sy kan al sien hoe dit ’n tendens in haar kantoor gaan
word. Haar personeel gaan nie ’n steek werk gedoen kry met hom in die
omgewing nie, hulle sal heeltyd meeding om vir hom gunsies te doen.
Sheila is kort op haar hakke. “Eva, kan ons gou praat?”
Eva knik gelate en stap by haar kantoor in. Sy gaan sit agter haar lessenaar,
en Sheila bly staan. “Ek weet nie hoe om te begin nie. Jy is die beste
bestuurder ooit, ek het ontsaglik baie by jou geleer en ek bewonder jou vir
wat jy bereik het ...”
Eva glimlag gelate. “Dis genoeg stroop, kom by die slegte nuus uit.”
Sheila kyk verras na haar. “Hoe weet jy ek het slegte nuus?”
Eva haal haar skouers op. “Wat is fout?”
“Ek moet ’n moeilike besluit neem.” Sy haal diep asem. “Nico soek ’n
assistent om hom in die kantoor te help. Ek het die regte kwalifikasies en
ervaring, en ek is gereed vir ’n nuwe uitdaging. Ek wil graag vir hom gaan
werk.”
Eva kyk vervaard na haar. “Bied hy jou meer geld aan?”
“Nee, ek weet nie eens wat die salaris is nie. Dit gaan nie soseer daaroor
nie. Ek wil vorder met my loopbaan. Hier het ek ’n plafon bereik, behalwe as
ek by jou oorneem, maar by hom is daar soveel meer moontlikhede met al die
maatskappye wat hy besit. Ek kan nie so ’n kans deur my vingers laat glip
nie.”
Eva kyk haar stil aan. Sy kan haar nie keer nie, maar sy hoop nie Sheila
doen dit omdat sy ’n oog op Nico het nie. Sy weet hoe vroumense se koppe
werk as hy in die omgewing is. “Ek is teleurgesteld. Jy is veronderstel om my
met Vicky se projek te help, en jou plaasvervanger sal nie oornag jou plek
kan volstaan nie.”
Sheila kyk smekend na haar. “Ek gaan steeds my kennismaand werk, en ek
is om die draai as jy vashaak.”
Eva haal haar skouers op. “Dan is dit reg, ek gaan jou nie keer nie. Is daar
nog iets?”
“Eva, mag ek jou iets persoonliks vra?”
Eva knik moedeloos. Gewoonlik vermy sy sulke gesprekkies, maar sy wil
tog weet wat in Sheila se kop aan die gang is. Veral wat Nico betref.
“Gaan julle nog skei?”
Eva sit regop. “Hoekom?”
Sheila laat haar blik ongemaklik sak. “Ek het net gewonder.”
Eva uiter ’n skeptiese geluid, en Sheila lig haar hande oorwonne. “Oukei,
ek gaan eerlik met jou wees, en ek hoop nie jy neem my kwalik nie. Ek dink
Nico is ’n ongelooflike ou. Ek ken hom nie so goed soos jy nie, maar vir my
het hy alles wat ek in ’n man soek. Ek wil hom beter leer ken, maar ek wil nie
op jou tone trap nie.”
Eva sug moedeloos. Haar vermoede was in die kol. Sy weet Sheila se hart
gaan gebreek word. Nes Eva is sy nie in Nico se liga nie, maar sy kan nie die
draer van die slegte nuus wees nie. “Ons gaan skei, maar jy behoort te weet
kantoorromanse loop net op ’n gemors uit.” Sy probeer vergeet wat so pas in
die stoorkamer gebeur het, dit was eenmalig.
Sheila glimlag ongemaklik. “Ek weet, maar ek wil tog die kans vat. Julle is
darem al ’n ruk vervreem, dis nie asof hy nog iets vir jou voel nie.”
Eva probeer haar nie aan die kwetsende woorde steur nie. Dis seker nie ver
van die waarheid nie. “Dink jy hy stel in jou belang?”
Sheila se oë vonkel asof sy aan iets aangenaams dink. “Ja. Hy het ’n
manier waarop hy na my kyk.” Sy sug in ekstase. “Dis asof dit net ek en hy
is ...”
Eva sug heimlik. En ontspan effe. Nico fokus altyd al sy aandag op die
persoon met wie hy praat. Hy laat almal spesiaal voel. Sy kan dit ook nie vir
Sheila sê nie, dit mag dalk te veel na suur druiwe klink.
Sheila kyk afwagtend na haar. “Jy sal dus nie omgee ...”
Eva lig haar hand. Dis genoeg. Oorgenoeg. Sy het nou haar kwota
toegewings vir een dag gemaak. Die spulletjie stop net hier. “Ek het baie
werk, en jy ook.”
Toe Sheila die deur agter haar toetrek, staan sy op en stap na die venster.
Sheila en Nico. Dalk ís daar ’n spesiale manier waarop Nico na Sheila kyk,
die manier waarop hy altyd na haar gekyk het. Miskien verbeel Sheila haar
nie. Die gedagte maak haar skielik baie benoud.
Stokflou val Eva op haar rusbank neer, en skop terselfdertyd haar skoene uit.
Wat ’n eindelose, goor dag! ’n Dag wat sy nie wil oorhê nie. Dis so
verskriklik frustrerend om nie te weet waarmee Nico besig is nie. Hoe kan hy
net in haar kantoor instap en oorneem? En sy weet nie hoe om hom te keer
nie. Sy kan nie voor haar personeel ’n kabaal opskop nie, maar sy kan ook nie
net gedwee saamspeel nie.
Sy sug moedeloos. Vanaand verdien sy ’n stukkie bederf. Sy gaan ’n
dekadente en belaglike duur ete van die hotelkombuis af bestel.
Sy sit regop en snuif die lug. Kom die wonderlike geure uit haar kombuis?
Dit ruik na ’n kombinasie van uie, vleis en speserye. Is Nico dan hier? Moet
sy gaan kyk? Hoe gaan sy hom in die oë kyk na die soen? Sy kan egter nie vir
ewig wegkruip nie. En sy is erg honger.
Hy maak dit maklik, want hy glimlag breed toe sy by die kombuis instap.
“Hallo, Eva. Jy is net betyds vir die lekkerste ete wat jy in jare gehad het. Ek
het vir ons spaghetti à la carbonara volgens ons familieresep gemaak. En
natuurlik het ek ook self die pasta gemaak.” Hy stap na die kroeg en haal
twee kristalglase uit. “Skink jy solank vonkelwyn, terwyl ek die laaste
afrondings aan ons ete doen. Ek is bly jy is vroeg, my kos moenie te lank
staan nie.”
Sy skud haar kop verdwaas, hy weet van onkant betrap. “Hoe het jy geweet
ek is op pad, ek kom nooit dieselfde tyd huis toe nie?”
“Ek het informante in jou kantoor,” lig hy haar doodluiters in.
Sy byt letterlik haar tong vas om nie te reageer nie. Dit moet Sheila wees,
net sy was nog by die kantoor toe Eva daar weg is. Sy hoop nie Sheila is van
plan om ’n gewoonte hiervan te maak nie, so sy moet vinnig die nonsens
stopsit. “Wat vier ons?” wil sy weet terwyl sy die glase by hom vat. Hy moes
so pas gestort het, want sy hare is nog blinknat. Hy het ’n spierwit hemp en
blou jeans aan. Hy ruik heerlik skoon en manlik.
“Ons vennootskap.” Hy glimlag tevrede.
Sy kyk geamuseerd na hom. “Lig my ook in oor die sogenaamde
vennootskap, want ek het nie ’n idee waarvan jy praat nie.”
“Die kantoor wat ons deel, dis wat ek bedoel met ’n vennootskap.” Hy lig
sy glas. “Op wonderlike jare van samewerking.”
Sy kyk skepties na hom. “Jy kan net van samewerking praat as albei die
partye van die begin af deel was van die ooreenkoms.”
Hy lag onbesorg. “Ja, my slim vrou, jy is seker reg, maar jy weet ook ek
doen nie dinge op die afgesaagde manier nie.”
Sy glimlag. “Nou praat jy die waarheid.”
Hy trek ’n kombuisstoel uit. “Sit, dan skep ek vir ons op.”
Eva is te moeg om teë te stribbel. En hoekom wil sy? Dit is tog nie ’n
sonde om saam met ’n aantreklike man ’n bord kos te geniet wat hy spesiaal
vir jou gemaak het nie. Dis dalk net wat sy nodig het na die grou dag wat sy
agter die rug het.
“Ek hoor Sheila gaan nou vir jou werk?”
Hy glimlag skeef. “Ja, dit lyk vir my so. Sy maak dit nogal moeilik om nee
te sê, sy het omtrent haar CV onder my neus ingedruk. Ek was beïndruk met
haar kwalifikasies en ervaring. Dit tel natuurlik die meeste in haar guns dat sy
vir jou werk. Ek wil egter nie moeilikheid maak nie, as jy haar wil hou, kry
ek iemand anders.”
Sy kyk verbaas na hom. “Ek dag die besluit is reeds geneem. Sy het klaar
haar bedanking ingedien.”
Hy frons. “Nee, ons het nog nie ’n kontrak geteken nie. Ek het haar nie
eens ’n behoorlike aanbod gemaak nie.”
Eva haal haar skouers op. “Dit maak nie saak nie. Ek gaan haar nie keer
nie, en jy sal nie spyt wees as jy haar aanstel nie.”
Hy knik. “Dit maak sake maklik. Ek is nogal verlig, want ek wil nie hê so
’n onbelangrike saak moet moeilikheid tussen ons maak nie.”
Eva frons liggies. Sy was reg, hy het nie ’n oog op Sheila nie. Anders was
hy nie so gemaklik met die besluit nie. Sy is verlig. Sy proe aan die kos, en
kreun amper hardop van lekkerkry. Sy talente word gemors, hy moes ’n sjef
geword het. “Die kos is heerlik, dankie.”
Hy glimlag skeef. “Iets wat ek darem goed doen?”
Sy lag. “Dit het ek nie gesê nie. Ek moet egter erken, jy pas nie regtig in by
my idee van iemand wat batebestuur doen nie. Dis ’n veeleisende en
senutergende beroep.”
Hy lag. “Jy onderskat my, Evatjie. Ek doen nie al die moeite net om alles
later weer te laat vaar nie. Jy moet gerus na my insette op Vicky se verslag
kyk, dan sal jy hopelik sien ek is nie net ’n mooi gesiggie nie.”
Sy kyk verbaas na hom. “Wanneer het jy die verslag gesien? Ek het dit nog
nie eens gesien nie.”
Hy haal ongeërg sy skouers op. “Sheila het dit vir my gewys.”
Eva frons. Sheila gaan nou ’n bietjie te ver.
“Ek hoor by my prokureur jy wil die woonstel hê.” Hy probeer nonchalant
klink, maar hy bluf haar nie. Hy is nie gelukkig met die idee nie, besef sy.
Sy kyk uitdagend na hom. “Dis reg, en ek hoop jy daag darem op vir die
volgende afspraak.”
Hy haal sy skouers op. “Ek sal my allerbeste doen. Ek moet jou egter
vroegtydig waarsku, ek gaan ook ’n eis of twee instel.”
Sy frons verward. “Vir wat? Ek het niks wat jy wil hê nie.”
Hy glimlag stadig. “Dis wat jy dink, maar jy is weer verkeerd. Net omdat
ek so dom was om sonder ’n huwelikskontrak te trou, dis nou volgens my
slim prokureur, beteken dit nie dat ek gaan terugsit terwyl jy met al my
besittings uitstap nie.”
Sy sug gefrustreerd. “Die woonstel is nie al jou besittings nie. En wat het
ek wat jy wil hê?”
“Ek het my prokureur opdrag gegee om ’n waardeerder aan te stel. Hy
moet na die boekwaarde van jou onderneming kyk, want ek wil die helfte
daarvan in aandele hê.”
Sy word yskoud. “Jy is sweerlik van lotjie getik! Dis mý onderneming. Dis
my bloedsweet wat dit gebring het waar dit vandag is, en ek het dit gedoen
terwyl jy iewers op jou seiljag in die son gebaai het!”
Hy grinnik onbeskaamd. “Ons was getroud toe jy die onderneming begin
het, en net ingeval jy dalk vergeet het, ek het vir jou die geld geleen om op
jou voete te kom. En dit was ook nie al nie, onthou jy dalk wie jou eerste
kliënt was?”
Sy stoot haar bord weg, sy het so pas haar aptyt verloor. “Ek het elke sent
terugbetaal. En natuurlik onthou ek my eerste kliënt, Dirk Swanepoel, die
eienaar van die grootste groep voedselwinkels in die land. Sonder hom sou ek
nie so ’n goeie wegspring gehad het nie, maar wat het hy met die prys van
eiers te doen?”
Hy grinnik. “Hy het alles met die prys van eiers te doen. Ek en Dirk kom al
’n lang pad saam.” Hy kyk veelseggend na haar.
Sy staar verdwaas na hom. Sy kry die idee, hy hoef niks verder te sê nie.
Hy het Dirk na haar verwys. “Jy bedoel hy ...”
Hy knik. Sy sukkel om die gedagte te verwerk. Sy was onder die indruk
Dirk het haar talente raakgesien, en nou vind sy uit hy het haar genader as ’n
guns vir ’n ou vriend. Dirk was uit die staanspoor ontwykend oor hoe hy van
haar gehoor het, en nou verstaan sy hoekom. Sy voel hoe haar wange rooi
word van verleentheid. Wat moet die man van haar dink? Dat sy ’n verveelde
rykmansvrou is vir wie hy moes werk gee? Gelukkig het sy hom goeie advies
gegee, wat hy alles geïmplementeer het, maar sy sal ná dese nooit die man
weer in die oë kan kyk nie. Hoe kon Nico dit doen? Sy het nie sy hulp nodig
gehad nie, sy sou self regkom. Dit sou dalk langer gevat het, maar dit maak
nie saak nie. Hoe durf hy so inmeng? Nou is dit egter te laat om te kla.
Hy kyk selfvoldaan na haar. “Ek het dus ’n groot aandeel in jou sukses, en
ek wil net my regverdige deel hê. Jy verstaan dit seker.”
Sy staan op. Genoeg is genoeg. Dit raak nou te erg. Hy wil nie net haar
kantoor oorneem nie, maar sy neus ook in haar onderneming steek. Hy kan
maar daarvan vergeet. “Ek gaan nie instem nie. Dis my onderneming en
klaar. Jy gaan nie jou hande daarop lê nie, en ek wil dit nie verder bespreek
nie.”
Hy glimlag ongeërg. “Dis jou besluit. Ek het gehoop ons gaan tot ’n
vreedsame vergelyk kom. My prokureur het my juis gewaarsku dit kan ’n
man ’n hele paar rand uit die sak jaag as die hof moet besluit, en natuurlik
vertraag dit die skeisaak met jare. Maar as jy die tyd en die geld het, wie is ek
om te kla?”
Sy maak haar oë ’n oomblik toe. “Jy gaan nie hiermee wegkom nie. Dis
reeds ’n vernedering dat jy jou vriend gevra het om vir my werk te gee. Ek
sou op my eie voete kon staan, ek het nog nooit kortpaaie gesoek nie. En jy
bly weg van my onderneming af.”
Hy staan op en sy stoel kletter om. Sy blik is koud op haar. “Ek dag ek het
jou ’n guns bewys toe ek Dirk na jou verwys het, maar nou is ek al weer die
skurk in die verhaal. Ek het ook nooit ’n bleddie idee hoe om jou gelukkig te
maak nie.” Hy stap weg.
Verwoed stap sy na haar kamer en klap die kamerdeur agter haar toe. Sy
sal hom wys, hy gaan nie hiermee wegkom nie. Dis nou tyd dat Tom sy
reputasie as een van die beste prokureurs in die land gestand doen. Hy moet
seker maak sy kry wat sy wil hê, en Nico kry niks wat hy wil hê nie. Dis wat
haar gelukkig gaan maak. Sy het nou oorgenoeg van dié bog gehad. Nou is
dit oorlog.
Tien
“Dis nou die derde afspraak wat hulle kanselleer. Ek sluk dit moeilik, Tom.
Daar kan tog nie elke keer iets belangriker opduik nie. Jy moet hulle nou in
’n hoek druk. Teen hierdie tempo kry ek eers my egskeiding met ons
vyftigste huweliksherdenking.” Eva kyk opstandig na Tom waar sy langs
hom in sy motor sit. Dit voel of Nico deesdae ’n kat-en-muis-speletjie met
haar speel. Sy sakebelange hou hom glo so besig, hy kry nie kans om ’n uur
aan haar af te staan nie. Watse bog is dit? Hy het nog nooit enige belang in
enige saak gehad behalwe om van een paartie na ’n ander te beweeg nie. En
skielik is hy ’n sakeman van formaat.
Sy kantore is nou langs hare ingerig, en sy vergaap haar gereeld aan die
kliënte wat in haar ontvangslokaal sit. Dis bekende sakemanne wat dink Nico
is net die man om hulle swaarverdiende geld vir hulle te belê. Sy byt nogal
langtand daaraan, maar haar oë kan haar seker nie keer op keer bedrieg nie.
As uitgeslape sakemanne dink hy weet wat hy doen, hoe kan sy dit
bevraagteken? Sy wil net ’n uur van sy kosbare tyd hê om rondom ’n
onderhandelingstafel te sit, en hy kan dit seker iewers in sy vol program
inpas.
Veral as hy tyd het vir uitgerekte middagetes saam met Sheila. Nie dat sy
hom dophou nie, maar sy sien mos die ontvangslokaal uit haar kantoor. Sy let
gereeld op hoe die tweetjies etenstye saam uitstap, en gewoonlik ure daarna
terugkeer. Om nie eens te praat van die laat aandjies wat die twee saam werk
nie. Daar het nie veel gekom van Sheila se belofte om haar aandag aan Vicky
se projek te gee nie, en Eva doen alles alleen.
Sy het al oorweeg om uit te vis waar hulle eet, en met beide die prokureurs
daar op te daag. As hy tyd het vir kuier, het hy tyd vir haar. En hy stuur die
verkeerde boodskap vir Sheila. Niemand kan haar blameer as sy dink hy stel
in haar belang nie. Sy blaas haar asem vies uit. Sy raak behep met nonsens.
Sy kyk afwagtend na Tom, want hy moet help.
Tom glimlag suur. “Dis ’n moeilike situasie, Eva. Hulle verskonings is
geldig, en ons gaan hulle nie sommerso in ’n blik druk sonder om hulle
goedgesindheid te verloor nie. Jy wag darem al agtien maande, ’n week of
twee gaan jou seker nie doodmaak nie.”
Moedeloos staar sy voor haar uit. “Dis hoekom ek dit agter die rug wil kry,
dit vat nou te lank.”
Hy sit sy hand paaiend oor hare. “Los dit in my bekwame hande, dis mos
waarvoor jy my betaal. En moenie bekommerd wees oor jou onderneming
nie, sy eis sal nie slaag nie. Ons sal dit tot in die hoogste hof betwis.”
Sy kyk benoud na hom. “Ek kan dit nie bekostig nie!”
Hy frons. “Ek weet, daarom sorteer ek dit uit voordat ons daar uitkom.”
Sy sug gelate. “Dankie, ek weet jy sal jou bes doen.”
Toe hulle by die stadsaal uitklim, kyk Tom bewonderend na haar. “Jy lyk
besonder mooi vanaand, Eva. Dis ’n eer om jou aan my sy te hê.”
Sy glimlag liggies. Sy het lank gewik en weeg voor sy die swart aandrok
gekies het. Dis nie ’n nuwe rok nie, sy het dit al vantevore aangehad. Nico
het haar aangemoedig om vir haar dertigste verjaardagviering ’n spesiale rok
te laat ontwerp. Hy het elke keer saamgepiekel as sy moes aanpas, en het
lustig sy opinie uitgespreek. Hy was mal oor die rok met sy outydse
korsetbostuk vol Swarovski-steentjies en die romp met sy lae net wat wyd om
haar middel uitklok en net bokant haar swart sandale eindig. Hulle is daardie
dag met sy privaat straler Kaapstad toe, waar hulle ’n romantiese ete op sy
nuwe seiljag gehad het. Die volgende dag het hulle vriende by hulle
aangesluit, en almal het die naweek op die seiljag gekuier. Dit was haar beste
verjaardag ooit, daarom was sy sku om die rok vanaand te dra. Sy het die rok
weer na die ontwerper geneem vir ’n paar verstellings, maar nog tot op die
laaste minuut gewonder of sy dit moet aantrek. Sy was bang vir die
herinneringe wat saam met die rok sou kom. Dit kon die aand vir haar bederf.
Sy het op die ou end tog die rok aangetrek, net om te bewys sy is nie
neuroties oor goed uit die tyd saam met Nico nie. En daarom speel sy met die
gedagte om eerder van die dakwoonstel af te sien. Dalk moet sy op ’n ander
plek oor begin. Sy wil nie gedurig aan hom herinner word nie, dit kan haar
terughou wanneer sy met ’n nuwe lewe wil begin.
“Tom, ek het mooi daaroor gedink, ek wil nie meer die dakwoonstel hê
nie,” sê sy uit die bloute terwyl hulle aanstap.
“Wat?” Hy kyk geskok na haar. “Is jy ernstig?”
Sy knik.
“Wat wil jy dan hê? Een van sy ander wonings? Of dalk net kontant?”
“Ek wil niks hê nie. Ek wil skei. Dis al.” Sy is verbaas oor haar stem wat
so bedees klink, want wanneer sy deesdae die woord skei hardop sê, voel dit
asof ’n mes in haar hart steek. Sy gaan ook nou deel word van die
egskeidingstatistiek en die gedagte is ontstellend. Soos enige ander
jongmeisie, het sy ook gedroom om vir ewig en altyd saam met die regte man
te leef. Maar sy moes leer dat die lewe nie so eenvoudig soos ’n sprokie is
nie.
Tom frons ongelukkig. “Ek wil nie snaaks wees nie, maar ek dink dis ’n
impulsiewe besluit. Wag tot môre, dan praat ons weer. Ek wil nie hê jy moet
iets doen waaroor jy later spyt is nie.”
“Dis nie ’n impulsiewe besluit nie, ek het meer as ’n maand gehad om
hieroor te dink. Ek gaan nie van plan verander nie.” Sy kyk beslis na hom, en
hy skud net sy kop.
“Kom ons gaan in. Ek gaan nie nou met jou stry nie.”
Die gasheer verwelkom hulle by die hotel se ingang. Benoud hou Eva die
flitsende kameras en fotograwe dop. Alles wat beweeg, word afgeneem. “Ek
wil nie op foto’s wees nie,” fluister sy vir Tom.
Hy glimlag ongeërg. “Moenie jou kop daaroor breek nie. Hulle stel in die
vermaaklikheidsterre belang, hulle ken ons van geen kant nie. En later, nadat
ek my toekenning gekry het, sal ek sorg dat hulle net van my foto’s neem.”
Sy sug verlig toe hulle verbystap sonder dat iemand aandag aan hulle gee.
Verbaas swaai sy om toe die fotograwe in een rigting begin stroom. “Wat
gaan nou aan?”
Tom haal sy skouers op. “Seker maar ’n bekende persoonlikheid wat
opgedaag het.”
“Ek wonder wie kan dit wees?” Nuuskierig hou sy die fotograwe dop wat
rondom ’n sportmotor bondel. Deur ’n gaping tussen die lywe sien Eva ’n
rooi Ferrari.
Tom kyk ook na die motor. “Blikskottel, kyk daardie kar.” Tom fluit
beïndruk deur sy tande.
Eva verstar toe sy Nico agter die stuur sien. “Wat maak hy hier?”
Verduiwelse Italianer, trek aandag waar hy ook al gaan. Sy skud haar kop
terwyl ’n lamheid haar beetkry.
Tom frons verward. “Van wie praat jy?”
“Nico.” Sy kyk wantrouig na Tom. “Het jy geweet hy gaan hier wees?”
Hy haal weer sy skouers op. “Nee, ek het nie, en maak dit regtig saak? Hy
weet tog ons is vriende.”
“Dis nie dit nie. Netnou vind iemand uit ons is getroud. Weet jy watse
sappige stukkie nuus dit vir die poniekoerante kan word? ‘Biljoenêr en vrou
daag by funksie op, maar elkeen met ’n ander metgesel.’ Saam met wie is hy
in ieder geval hier?” Sy rek haar nek om beter te kan sien.
“Daar is ’n beeldskone vrou saam met hom,” merk Tom op. “Ken jy haar?”
Vreemd verlig sien sy hoe Vicky uit die motor klim. Sy is elegant geklee in
’n heldergeel aandrok, wat treffend lyk saam met haar donker gelaatstrekke.
Nico se donker rug is nog na haar gedraai. “Dis sy suster, Vicky. Ek is juis
besig met ’n projek vir haar. Sy besit ’n aantal skoonheidsklinieke.”
Tom knik beïndruk. “Sy suster? Nou sien ek die familietrekke. Die twee
het goeie gene geerf.”
“Om nie eens van die geld te praat nie,” antwoord sy effens spottend.
Tom knik. “Ja, ek het amper van my stoel afgeval toe ek jou man se bates
sien. Ek het baie welgestelde kliënte, maar hy is definitief in ’n eie klas.”
Haar glimlag verstar toe Nico omdraai. Hy praat met die verslaggewers,
maar sy kan nie hoor wat hy sê nie. Sy stel ook nie belang nie, want haar
aandag word totaal deur sy voorkoms in beslag geneem. Sy wens sy het die
woordeskat gehad om hom ordentlik te kan beskryf. Hy het ’n swart aandpak
aan wat lyk of dit spesiaal ontwerp is vir sy forse lyf. Sy donker vel steek
skerp teen die spierwit hemp af, sy donker hare lê dik en effens krullerig na
agter. Die versinnebeelding van die perfekte man, dis wat hy is, aantreklik,
selfversekerd en welgesteld. En dis wat hy ook in die regte lewe is. En vir
haar is hy baie meer as dit.
Sy leun teen Tom, want haar knieë dreig om mee te gee. Opeens besef sy
hoe mal sy is. ’n Ander vrou sal vir lewe en dood klou, net sy en haar
deurmekaar koppie dink hy sal nie deug nie. Hoe gaan haar lewe sonder hom
lyk? Sy sal dit maar erken, soos ’n aaneenlopende vaalheid dag tot dag. Dis
hoe dit vir agtien maande was, ondanks haar moeite om haar lewe nuwe
fokus te gee. Maar dit het klaaglik misluk. Is daar nog tyd vir omdraai?
Die tekortkomings wat sy in hom soek, is alles deel van ’n patetiese
poginkie om hom weg te stoot, uit haar lewe te kry voor hy vanself loop. Nes
haar onbetroubare pa haar gelos het. Sy kon met tyd haar pa se laakbare
optrede aanvaar, maar sy dink nie dit gaan so maklik met Nico wees nie. Juis
daarom het sy hom weggestoot. En dit was haar grootste fout.
Sy het hom nog lief. Die gedagte kom amper rustig in haar kop sit. Want
dis so reg, en so eenvoudig. Niks sal ooit daaraan kan verander nie. Wat gaan
sy nou doen?
Sy trek aan Tom se mou. “Kom ons gaan in.” Voor Nico haar sien. Dis
onvermydelik, maar sy het ’n oomblik of twee nodig om haar op die
ontmoeting voor te berei. Sy het dit dringend nodig.
Hulle word na hulle tafel begelei. “Die saal lyk pragtig,” merk sy teenoor
Tom op. Sy bewonder die smaakvolle oranje en swart dekor. Hier word
vanaand uitgehang om die belangrike gaste te beïndruk.
“Hulle sit aan ons tafel.” Sy sug moedeloos toe sy Nico en Vicky se
naamkaartjies in die verbystap sien.
“Die tafel is groot, jy hoef nie met hom te praat as jy nie wil nie. Maar
hoekom pla hy jou?”
Sy lig haar ken uitdagend. “Hy pla my glad nie.”
Tom glimlag net, en sê niks. Hy trek die stoel vir haar uit. Sy gaan sit,
maar haar blik bly op die ingang waar Nico enige oomblik gaan verskyn. Ná
’n ruk kom sy agter Tom praat met haar.
“Ek verwag ’n spesiale toekenning vir my bydrae tot
liefdadigheidsprojekte. My beursie is oop vir minderbevoorregtes.”
Sy knik. “Dis wonderlik. Sodra my kontantvloei beter lyk, moet ons gesels.
Ek wil hoor hoe jy dit doen, en watter organisasies jy ondersteun.” Haar
aandag word weer afgetrek toe Nico en Vicky verskyn. Sy sak effens in haar
stoel af, staar na die vonkelende kers voor haar. Sy wens sy kon net wegraak.
Sy wil nie hier wees nie, sy wil nie in hom vaskyk nie. Sy wil nie die
waarheid in die oë kyk nie. Die aand gaan ’n ordentlike marteling word, met
hom aan die een kant van die tafel, sy aan die ander kant. Buite bereik, maar
steeds in sig. So naby, maar tog so ver van mekaar. Sy glimlag skeef. Sy het
nie gedink sy het dit in haar om so melodramaties te raak nie!
Sy voel ’n krieweling teen haar ruggraat roer en kyk vinnig op. Vas in
Nico se donker blik. Hy knikgroet. Iemand praat met hom, maar sy oë bly op
haar. Hy wys geen emosie nie. Vies kyk sy weg. Waar is die passievolle man
met wie sy getrou het? Wat altyd gewys het wat hy voel? Hy is nie meer
dieselfde man nie. Haar Nico is nie veronderstel om so beheers en
onemosioneel te wees nie. Dis nie die man vir wie sy lief geword het nie. Is
dit hoe hulle opgemorste verhouding hom verander het? Sy het baie waarvoor
sy verantwoording moet doen.
Vicky sien haar raak en waai opgewonde. Hulle stap nader. Eva sug verlig
toe hulle hulle sitplekke inneem. Die onvermydelike oppervlakkige
gesprekkie is tydelik uitgestel. Sy sien hoe Vicky met wilde handgebare met
Nico begin praat, selfs nou en dan in haar rigting beduie. Hoekom lyk dit asof
hulle oor haar praat? Nico luister afgetrokke, dra min by tot die gesprek. In ’n
stadium gooi Vicky haar hande in die lug, sit dan terug en staar nors voor
haar uit. Sy wonder hoekom Vicky so omgekrap lyk? Het sy nou uitgevind
hulle gaan skei, of is Vicky oor totaal iets anders moeilik?
Sy is amper teleurgesteld toe die seremoniemeester begin praat, want sy
wil haar eerder aan Nico vergaap.
Die man verwelkom almal, bedank die donateurs wat teenwoordig is, en
daarna word foto’s van die liefdadigheidsprojekte waarby die raad betrokke
is, op ’n groot skerm vertoon.
Eva merk op hoe Tom afwagtend regop sit toe die spreker na die volgende
punt beweeg. “Vanaand kry ons ook kans om een van ons vrygewigste
donateurs te bedank,” lig hy die gehoor in. “Hy ondersteun ons projekte met
’n groot oop hand, en vanaand kan ons uiteindelik dankie sê, want gewoonlik
sukkel ons om hom hier te kry omdat hy so dikwels landuit is. Ons is
besonder bly dat ons Nico Marconi hier kan verwelkom. Nico, kom asseblief
vorentoe. Vanaand het ons iets vir jou.”
Onder luide applous ontvang Nico ’n glasbeeldjie en ’n koevert. Eva hoor
Tom se teleurgestelde sug, en sy kyk besorg na hom. Hy het gedink die
toekenning is syne, hoe kon hy hom so misgis?
Maar sy het haar ook weer eens met Nico misgis. Dit begin ’n gereelde
ding raak. Sy het nie geweet hy dra by tot liefdadigheid nie. Hoekom het hy
haar nie net ingelig toe sy hom van geldmors beskuldig het nie? Sy het te
lank na ’n eendimensionele prentjie van hom gestaar. Sy wou net dinge sien
wat haar genoeg motivering kon bied om hom uit haar lewe te hou, maar
Nico is baie meer as net ’n rondritsende, verveelde biljoenêr. Sy wens sy het
dit vroeër raakgesien, alhoewel dit nie noodwendig haar optrede sou
beïnvloed het nie. Haar onsekerhede het haar tot hier gedryf.
’n Verskeidenheid kunswerke word deur ’n afslaer opgeveil, en
gefassineerd hou Eva dop hoe buitensporige pryse vir middelmatige
kunswerke betaal word.
Ná die veiling neem die seremoniemeester weer die mikrofoon. “Soos
altyd is dit nie net kunswerke wat vanaand op die spel is nie, maar ook ’n ete.
En dis nie net sommer enige ete nie, dis in die geselskap van een van ons land
se pragtigste dames. Die geld sal geskenk word aan ’n organisasie van die
dame se keuse. Die pragtige én ongetroude Vicky Marconi het ingestem om
saam met die wenner te gaan eet. Ek dink die meeste mense ken haar, maar
sal jy tog opstaan, Vicky?”
Onder ’n gejuig staan Vicky op en wuif vir die gaste. Die
seremoniemeester glimlag tevrede. “Wie gaan eerste bie?”
’n Ouerige man se hand is vinnig op, en verstom hoor Eva hoe die bod
binne ’n paar minute verdubbel. Geamuseerd hou sy die wedywering dop,
selfs deur mans wat getroud lyk.
“Vyf en twintig duisend.”
Eva se kop swaai na Tom. Het sy reg gehoor? Wil hy regtig vyf en
twintigduisend rand vir ’n ete saam met Vicky betaal? Hy is nou heeltemal
die pad byster, ’n mens gooi mos nie soveel geld rond nie. Al is dit vir ’n
goeie doel.
Iemand sit ’n hoër bod in. Tom sit effens vorentoe en begin in alle erns bie.
Eva onderdruk ’n verbouereerde giggel. Wat moet die gaste dink as haar
metgesel met oordadige entoesiasme op ’n ete saam met ’n ander vrou bie?
Die ete word uiteindelik op Tom toegeslaan, en hy lyk hoog in sy noppies.
Sy lig net haar wenkbroue verbaas.
“Dis vir liefdadigheid,” verskoon hy sy optrede.
Eva glimlag skepties. Miskien moet sy tog die arme man ’n guns doen en
hom aan haar skoonsuster voorstel. Dit kan haar uit ’n netelige situasie help
as hy ’n oog op ’n ander vrou kry.
Die seremoniemeester gaan voort. “Vanaand het ons ook iets vir ons
dames. Ons het ’n soen op die spel, en Nico Marconi gaan die soen uitdeel.
Ek verwag niks minder as vyfduisend as ’n beginbod nie. Wie van die dames
voel dis ’n soentjie van ons sjarmante eregas werd?”
Onmiddellik verloor Eva haar sin vir humor. Dis een ding vir ’n
ongetroude meisie om deel te word van onskuldige pret, en Tom se
saamspelery pla haar nog minder, maar aan Nico se deelname sluk sy
moeilik. Nico is getroud, en sy hou glad nie van die geesdriftige manier
waarop die dames reageer nie. Sy volg die gewedywer vir ’n paar minute,
haar geaffronteerde blik meestal op ’n jong blondine wat duidelik te veel geld
het, en elke keer die bod verhoog. Sy kyk ook na Nico wat komkommerkoel
terugleun op sy stoel, en met ’n ingenome glimlaggie die gestoei tussen die
vrouens dophou. Dis niks nuuts vir hom nie, dink Eva amper wrewelig. Die
verdomde mansmens is gewoond vroumense kompeteer vir sy aandag. Hy
moenie dink sý sal so pateties wees nie.
Net toe dit lyk asof die bod aan die blondine toegestaan gaan word, kry
Eva se hand ’n wil van sy eie, en skiet in die lug op.
“Agtduisend van die pragtige dame in die swart rok,” bevestig die afslaer
haar bod. Die blondine gooi egter nie handdoek in nie. Toe daar geen reaksie
is ná die volgende bod van die blonde poppie nie, en die meisie behoorlik
haar lippe van lekkerkry aflek, steek Eva weer haar hand op. Die blondine wil
net weer haar hand lig, toe haar metgesel heftig met haar praat. Sy skud haar
kop toe die afslaer vraend na haar kyk, en Eva se bod word aanvaar.
Elf
Eva wens die aarde wil haar insluk. Nou is almal se aandag op haar. Hoe kan
sy so ’n imbesiel wees? Hoe kan sy so ’n groot gedoente hiervan maak? Dis
tog net ’n vervlakste soen. ’n Mens sou sweer die man self is op die spel. Al
wat sy hieruit gaan kry, is verleentheid en die verlies van ’n paar duisend
rand. En sy vind nie troos in die gedagte dat dit vir liefdadigheid is nie. Sy
weet sowaar nie wat haar besiel het nie.
Tom kyk verbaas na haar, en sy lig haar skouers ongeërg. “Dis vir
liefdadigheid.”
Hy vind haar opmerking klaarblyklik nie snaaks nie, want hy frons vies. Sy
onderdruk ’n glimlag. Dis vreemd dat hy gemaklik is met die idee om op ’n
ete met ’n ander vrou te bie, maar nie haar deelname waardeer nie.
Die seremoniemeester roep Nico nader. “Hoekom lyk dit vir my asof jy die
gelukkige een is vanaand? Ek dink ’n paar manne sal graag met jou plekke
wil ruil.”
Nico knik en glimlag tevrede.
“Juffrou, kan jy asseblief vorentoe kom?” roep die man. “Ons sal later reël
vir die betaling, maar jy mag jou soen kom opeis.”
Skrikkerig staan Eva op. Sy was al weer impulsief, en nou gaan sy weer
die prys betaal. Haar hart ruk in haar bors, haar hande is klam. Sy sukkel om
asem te kry en die stywe korset druk teen haar longe. Sy wou die kollig
vermy, en nou het sy presies die teenoorgestelde reggekry. Sê nou iemand in
die gehoor ken haar en Nico? Nie net daag hulle apart op nie, maar sy bie ook
op sy soen. Lekker sappige nuus vir die poniekoerante.
Nico hou haar geamuseerd dop toe sy naderstap. Hy sal dit natuurlik
snaaks vind, die swernoot, dink sy vies. Nou kan hy wraak neem vir die
selnommer wat sy uitgedeel het.
Toe sy naby is, vat hy haar hand en trek haar doodluiters nader. Hy buig sy
kop en soen haar liggies op haar mond. Hoendervleis slaan oor haar vel uit,
en die bietjie krag wat nog oor is, syfer uit haar weg. Sy kan omtrent soos ’n
poeletjie water by sy voete gaan lê terwyl hy haar opslurp. Sy beweeg
onwillekeurig nader, soek meer kontak, en asof hy haar onuitgesproke
versoek verstaan, vleg sy vingers skielik in haar hare, en trek hy haar dieper
in die omhelsing. Sy stut haar hande teen sy bors. Sy mond is bittersoet op
hare, en sy beantwoord sy soen gulsig. Sy vergeet van die goedkeurende
gehoor, sy vergeet van die hangende skeisaak, sy vergeet waar sy is. Nou is
dit net hy en sy. Soos dit veronderstel is om te wees.
Dis hy wat sy kop eerste lig en skor teen haar oor fluister: “Jy moes net
gevra het, ek sou dit verniet gedoen het.”
Onseker kyk sy in sy donker oë. Sy wens hy wil haar weer soen, dit was
nie genoeg nie. Sal nooit genoeg wees. Hy los haar, en wys vir haar om voor
te stap. Sy stry teen die teleurstelling in haar. Nuuskierige blikke volg haar so
ver as wat sy stap. Tom lyk kwaad. Dit pla haar nie, niks pla haar nie.
Die voorgereg van die vyfgangete word bedien. Tom probeer die gesprek
aan die gang hou. Sy konsentreer nie op sy woorde nie, haar kop maal en
draai. Haar lippe tintel. Dit word ’n stryd om nie na die oorkant van die tafel
te staar nie. Toe die hoofgereg bedien word, gee sy aan die verlange toe, en
kyk op. Vas in Nico se oë. Hy lig sy hand, wys met sy selfoon.
Sy frons. Wat beduie hy? Hy wys weer na sy foon. Onseker tel sy haar
aandsakkie op en voel die vibrasie van haar foon. Uit die hoek van haar oog
kyk sy na Tom. Sy aandag is op die bord kos voor hom, en sy vroetel in haar
aandsakkie tot sy haar foon raakvat. Sy loer na die skerm. Nico het ’n SMS
gestuur. Sy kan nie haar nuuskierigheid bedwing nie en probeer die boodskap
ongesiens lees. “Jy lyk asemrowend mooi in my rok. Bly jy het dit aan.”
Verras skud sy haar kop. Wat doen hy nou? Hy kan mos nie sulke
boodskappe stuur as sy saam met ’n ander man is nie. Terloops wonder sy
wat Tom van haar tafelmaniere dink toe sy met die een hand haar kos eet, en
met haar ander hand ongemerk probeer tik. “Dis my rok. Nie vir jou
aangetrek nie. Nie geweet jy is hier nie.”
Sy hoef nie lank te wag vir sy antwoord nie. “Bly my gunsteling en jy weet
dit. Onthou jy hoe het ek gesukkel om die korset los te kry ...”
Ongemaklik waai sy die servet voor haar gesig. Dit begin warm word. “Jou
kos word koud,” tik sy en stuur die boodskap.
“Maak nie saak. Nie honger vir kos.” Vervaard kyk sy op, en hy knipoog
vir haar. Terwyl sy haar reaksie oorweeg, kom nog ’n boodskap deur. “Gaan
jy nie vra waarvoor?”
Sy skud haar kop, en tik. “Eet jou kos.” Teen die tyd klop haar hart wild in
haar bors, en sy kan nie wag vir die volgende boodskap nie, wat kort daarna
volg.
“Net as jy nagereg is.” Sy giggel verbouereerd, hou haar oë op die selfoon.
Sy kan nie waag om na hom te kyk nie. Hy mag nie haar opgewondenheid
sien nie, dit sal hom net verder aanvuur.
“Wat is snaaks?” Tom kyk nuuskierig na haar.
Sy maak keelskoon. “Niks.” Sy sit haar foon weg. Netnou word sy
uitgevang. Dit kan ’n verleentheid veroorsaak. Nie net vir haar nie, maar ook
vir Tom.
Die nagereg word bedien. Sy is besig om te eet, toe ’n kelner langs haar
kom staan. “Juffrou, hier is die water wat jy bestel het.”
Verward kyk sy na die skinkbord met die mineraalwater. “Water? Nee,
dis ...” Haar woorde raak weg toe sy ’n opgevoude papiertjie met haar naam
op die skinkbord sien. Sy herken Nico se handskrif, en skuldig loer sy na
Tom. Hy gesels lustig met die vrou aan sy linkerkant. Met bewende vingers
maak sy die briefie op haar skoot oop. “Sal jy vanaand saam met my huis toe
gaan?”
Sy kyk vinnig op, maar hy praat met Vicky. Sy kyk weer af, bêre die
briefie in haar aandsakkie. Hoekom hou hy aan hiermee? Wat lei hy af van
haar bieëry? En die soen? Sy kan haarself maar net indink, en hy sal nie
verkeerd wees as hy dit as ’n uitnodiging sien nie.
Toe die koffie bedien word, staan van die gaste op en begin rondbeweeg.
Nico en Vicky stap na ’n ander tafel. Eva sien hoe Tom hulle dophou, en toe
hulle terugstap, draai hy na haar. “Dalk moet ons hulle ook groet, dit is seker
die beleefde ding om te doen?”
Die afwagting op Tom se gesig weerspreek die teensinnige manier waarop
hy dit sê, en Eva sug gelate. Sy moet maar saamspeel. Sy kan hom seker nie
blameer as hy gefassineer word deur haar skoonsuster nie, dis mos maar hoe
dinge met die Marconi’s werk. Almal wil altyd in hulle omgewing wees. En
as sy eerlik is, wil sy ook by Nico uitkom. Want waarom klop haar hart
opgewonde asof sy so pas ’n marathon agter die rug het?
Hulle loop die Marconi’s tegemoet. Die mans skud blad, Vicky glimlag
vriendelik. “Eva, ek het jou nie hier verwag nie. Nou voel ek skuldig dat ek
Nico vergesel het, jy moes saam met hom gekom het.”
Eva skud haar kop. “Dit maak mos nie saak nie, ek het julle ook nie hier
verwag nie. Vicky, ek wil jou graag aan Tom voorstel. Tom, dis my
skoonsuster Vicky.”
Sy skud sy hand, glimlag beleef. “Aangename kennis. Ons het mos vlugtig
by Nico-hulle ontmoet. Dit lyk my ons gaan mekaar beter leer ken oor ’n
bord kos. Ek voel gevlei dat jy so baie betaal om saam met my te eet.”
Tom haal ongeërg sy skouers op. “Ek doen maar my ding vir ’n goeie
saak.”
Eva onderdruk ’n giggel. Tom bluf niemand deur voor te gee dis ’n groot
opoffering wat hy maak nie, sy kan omtrent sy bewondering vir haar
skoonsuster met ’n stok aanvoel. En hy het nog nooit so na háár gestaar nie.
Sy kan nie help om verlig te voel nie, miskien kan hulle hierna net vriende
wees. Dis ’n wonderlike verwikkeling.
“Jy is glo Eva se prokureur?”
Tom maak ongemaklik keelskoon. “Dis reg.”
“Is dit nie ’n bietjie onprofessioneel om met ’n kliënt uit te gaan nie?”
Tom verkleur effens. “Nee, glad nie. Ons is net goeie vriende.”
Eva onderdruk ’n glimlag. Sy weet waarom Vicky so skepties lyk, sy
wonder seker hoekom hulle dan op die vloer rondgerol het.
Gelukkig laat Vicky dit daar. Sy kyk verby hulle. “Daar is die Malans. Ek
wil gou gaan groet. Sal julle my verskoon? Tom, stap jy saam? Ek wil hulle
sommer aan jou voorstel, hulle is nuut in die omgewing, en dalk kry hulle ’n
prokureur nodig.”
“Graag.” Tom laat nie op hom wag nie, en stap saam.
Eva kyk Vicky agterdogtig agterna. Hoekom lyk dit vir haar soos ’n set om
haar en Nico alleen te kry? Haar hart klop met dowwe slae in haar binneste.
Sy weet nie waaroor sy met Nico moet praat nie, en sy het nie die vaagste
benul wat sy nou moet doen nie. Dit voel kompleet soos ’n eerste ontmoeting,
dieselfde opwinding, dieselfde afwagting. Dieselfde onsekerheid wat ’n mens
lam laat. Sy loer na hom, sy blik is op haar. Sy mond vertrek in ’n tevrede
glimlag, en vir ’n lang sekonde bly sy oë op haar lippe. Teen die tyd haal sy
rukkerig asem.
“Wil jy koffie hê?” vra hy sag.
Sy knik.
“Kom ons bestel dit, dan soek ons ’n stil plekkie om te sit.”
Hy wink ’n kelner nader, vra vir koffie. Dan vat hy haar hand en lei haar
na ’n alkoof waar ’n bank staan. Hy gaan sit langs haar, sonder om aan haar
te raak.
“Vicky was kwaad toe sy sien jy is hier.”
Eva frons liggies. “Hoekom?”
“Sy kan glad nie verstaan hoekom ek jou nie gevra het om saam te kom
nie. Wat ek nie wou erken nie, was dat ek nie seker was of jy sou saamkom
nie. Ek was nie lus om nog ’n bloutjie te loop nie.”
Sy kyk tergerig na hom. “Jy moes net gevra het. My antwoord het jou dalk
verbaas.”
Hy knik ingedagte. “Miskien moes ek.” Hy beweeg effens nader en sy ruik
sy bekende naskeermiddel. “Was dit darem die moeite werd?” Sy stem is sag
by haar oor, en sy vingers begin liggies met haar hare vroetel.
Haar hartklop is skielik swaar en driftig. “Waarvan praat jy?” Sy probeer
haar dom hou, maar sy sien die glinstering in sy oë. Sy bluf hom nie.
“Die soen. Jy het ’n taamlike bedrag betaal, ek moet seker maak jy het
waarde vir jou geld gekry.”
Sy kyk stip na sy lippe. “Ek weet nie so mooi nie, as ek dink aan alles wat
ek met die geld kon doen ...”
Sy hand verstil in haar nek. “Jy moet net sê waar ek tekort skiet, dan doen
ek my bes om daarop te verbeter.” Hy hou haar blik, maar met ’n geïrriteerde
sug beweeg hy weg toe die kelner langs hulle kom staan.
Die kelner bedien hulle koffie. Daar is ’n gelade stilte terwyl hulle suiker
en melk ingooi. Sy stort haar suiker en sug moedeloos. Dis veronderstel om
makliker te wees. Die bymekaar wees. Hulle ken mekaar, en tog voel sy so
onseker soos ’n tiener. En tree sweerlik soos een op.
Hy neem ’n sluk van sy koffie, sit die koppie neer. “Ek wag vir ’n
antwoord.”
“Wel ...” Sy maak of sy diep dink, en druk-druk met haar vinger op die
suikerkorrels. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe hy haar hand dophou. Sy
lek haar vinger nat en druk dit op die suikerkorrels voordat sy dit na haar
mond bring en die soetigheid van haar vinger afsuig. Hy beweeg afwagtend
nader, sy blik smeulend op haar.
“Ek dink ...” Weer huiwer sy, geniet dit om hom te terg. “Ek dink ...”
Hy vat haar ken tussen sy duim en voorvinger, lig haar gesig na hom.
“Meisiemens, jy is besig om my mal te maak. Sê my wat jy dink?”
Sy oë hou hare ’n ewigheid gevange. Sy sluk swaar. “Ek kan nie meer so
mooi onthou nie.” Haar stem is hees. “Dit het dan seker nie veel van ’n
indruk op my gemaak nie. Miskien moet ons weer probeer, net om my
geheue te verfris.”
Hy knik vinnig. “Natuurlik, as dit is wat jy wil hê. Ek wil nie hê jy moet
teleurgesteld hier wegstap nie.” Sy gesig sak na haar wagtende lippe en sy
mond gaan met ’n kreun oop oor hare. Hy proe aan haar soos iemand wat jare
laas kos gekry het. Toe hy eindelik sy mond van hare lig, sukkel Eva om
asem te kry.
“Het dit gehelp?” Hy haal swaar asem.
Haar oë bly op sy lippe. “Gehelp waarmee?”
Sy lippe vertrek in ’n tevrede glimlag. “Kom ons probeer dan maar weer.”
Hy kom weer nader, proe die keer liggies aan haar lippe, beweeg weer weg.
Sy kreun gefrustreerd, en kry hom aan sy baadjielapel beet. Sy trek hom
nader. Hy lag saggies, vou sy hand om haar ken. “Nog nie goed genoeg nie?”
“Nog glad nie genoeg nie,” fluister sy teen sy lippe.
Iemand maak keelskoon, en vies kyk sy op. Wie pla hulle nou? Tom staan
langs hulle, sy het nie ’n idee vir hoe lank al nie, en hy lyk soos ’n
donderwolk.
“Kan ons huis toe gaan?” wil hy bruusk weet.
Nico staan op en kyk uitdagend na Tom. “Eva gaan saam met my ry.”
Tom frons ergerlik. “Daar is nie plek in jou sportmotor nie, en sy het saam
met my gekom.”
“En sy is my vrou.”
“Wat van jou gaan skei.”
Eva keer vinnig, voor hulle mekaar dalk beetkry. Sy sal eerder saam met
Nico wil gaan, maar dis nie noodwendig die regte ding om te doen nie. “Ek
ry saam met Tom, dankie.”
Dit lyk eers of Nico wil stry, maar uiteindelik knik hy instemmend. Hy vat
haar hand, bring dit na sy lippe. “Ek sien jou later, my Eva.” Hy kyk
uitdagend na Tom.
Tom trek haar weg.
“Ek kan self loop,” lig sy hom vies in. “Wat is jou probleem?”
“Hoe kan jy met ’n ander man in ’n hoekie sit en vry?”
“Die ander man is my man, en ek kan nie onthou dat ek enige sarkastiese
opmerkings gemaak het toe jy jou flikkers vir my skoonsuster gooi nie.”
Hy wil hom verdedig, maar sy lig haar hand. “Kom ons los dit. Dis
onnodig om verder hieroor te argumenteer. Nie een van ons gaan baat daarby
nie. Vat my net huis toe.”
Hulle praat nie tot hulle voor haar woonplek stilhou nie. Hy keer haar toe
sy wil uitklim. “Wag, Eva, ek is jammer. Ek het oorreageer. Ek gaan môre ’n
bietjie Laeveld toe met Nico se motorfiets. Jy wil nie saamkom nie?”
Sy kyk verras na hom. Mansmense se logika maak ook nie aldag sin nie.
Hulle baklei amper oor haar, maar leen steeds speelgoed uit. “Nee, dankie.
Nie die keer nie, miskien ’n ander keer.” Sy klim uit.
“Ek stap saam met jou,” protesteer hy.
Sy beduie na die deurwag wat beleef vir haar wag. “Dis nie nodig nie. Die
deurwag stap saam met my. Dankie vir die aand, en geniet jou naweek.”
Sy stap verlig weg. Gelukkig het hy maklik toegegee. Sy wil nie nou
geselskap hê nie. Sy wil alleen wees, sodat sy die aand kan herleef. Sy kan dit
nie doen terwyl hy by haar is nie. Sy wonder wat om te verwag. Nico het nie
hier aangetrek nie, gaan hy hier opdaag?
Twaalf
Sy stap heen en weer in die sitkamer, staar na die stad se flikkerende liggies.
Sy haal diep asem. In en uit. Miskien sal dit help om die bewerasies in haar
lyf stop te sit. Sy het sy kar by die ingang sien inry, hy behoort enige oomblik
hier te wees. Is sy reg hiervoor? Is sy reg om weer aan die diepkant in te
spring, om ’n kans te waag met hulle verhouding, sonder om te weet wat dit
regtig inhou? Vanaand sal sy moet besluit, want sy weet nie of sy weer ’n
kans gaan kry nie.
Sy hoor ’n beweging agter haar. Stadig begin sy haar korset losmaak.
“Kan ek help?” Sy stem is skaars ’n fluistering. Sy vingers begin die
bandjies lostrek. Hy vat sy tyd. Sy voel hoe die korset effens meegee. Hy
draai haar stadig om. Sy sluk swaar toe sy vinger die geskulpte kant van haar
korset natrek.
Hy kyk op. “Ek dink nie ek kan dit vanaand stadig vat nie.” Hy sluk swaar,
sy oë is vol begeerte. “Ek gaan probeer, maar dit was te lank ... Ek droom al
so lank hieroor ...”
“Ek wil nie hê jy moet dit stadig vat nie. Ek wil jou hê ...” Haar woorde
stol op haar lippe toe Nico sy kop laat sak en sy mond oor hare oopgaan. Sy
mond por hare oop. Hy beweeg net weg om die korset oor haar kop te trek.
Haar hande sprei oor sy borskas. Vir haar was dit ook te lank. Daar was te
veel nagte wat sy rondgerol het, verlang het na sy nabyheid. Die gemis aan sy
intieme kontak was soms ’n fisieke pyn in haar. Sy voel asof sy sy klere van
sy lyf kan afstroop. Haar bewende vingers sukkel om sy hempsknope los te
kry. Hy stoot haar hande weg, maak korte mette daarvan. Hy gooi sy hemp
eenkant, druk haar hande teen sy warm lyf. Sy voel die spiere onder haar
palms, is intens bewus van die aanloklike geur van sy naskeermiddel. En van
hom. Haar hande streel oor sy skouers, trek die lyne van sy bolyf na, knip sy
belt los, terg met haar vingers langs die bokant van sy boksbroekie wat net-
net sigbaar is.
Hy trek haar driftig teen hom vas, tel haar teen sy lyf op en sy vou haar
enkels agter sy rug. Hy dra haar na haar slaapkamer waar hy haar agteroor op
die bed laat tuimel. Hy beweeg nader, stroop haar van haar laaste
kledingstukke. Sy lig haar lyf uitnodigend en hy weet wat sy verlang. Sy
hande vou om haar borste, sy kreun hardop. Toe sy mond om die piek van
haar bors sluit, voel sy hoe ekstase in haar opstoot en spasmas deur haar lyf
ruk. Sy vou haar arms om sy nek, dwing haar bolyf styf teen sy kaal bors. Hy
druk haar bene oop en sekuur beweeg hy in haar. En dan, asof hy finaal
beheer verloor, begin hy driftig teen haar beweeg. Sy hoor sy hortende
asemhaling by haar oor. Toe nog spasmas deur haar lyf ruk, roep sy sy naam
hardop uit, en opnuut verloor sy beheer. Sy hoor hom in die holte van haar
nek kreun, voel hoe sy lyf ruk. Hy val swaar op haar, en hy lê vir ’n lang ruk
stil. Sy streel deur sy hare, geniet die drukking van sy lyf op hare, voel die ou
bekende intimiteit wat weer tasbaar tussen hulle lê. Tyd mag maar nou
stilstaan, sy is weer gelukkig. Sy het weer haar maat by haar.
Hy rol om, met haar in sy arms, en sy stut haar kop teen sy bors. Sy hande
streel saggies oor haar rug en sy hoor hom prewel. “My Eva, my liefste
vrou ...” Sy gee haar oor aan die salige gevoel in haar. Alles voel reg, die
wêreld het weer in plek geskuif. Sy sug diep, en raak weg in ’n wonderlike
wêreld waar dit net hy en sy is.

Met ’n effense kreun draai Eva op haar rug, en elke spier in haar lyf
protesteer. Sy staar na die plafon, ’n tevrede glimlag op haar gesig. Wat ’n
ongelooflike, wonderlike nag. Nico kon nie genoeg van haar kry nie, en sy
van hom. Elke ervaring was bekend, maar ook nuut. Hulle het min geslaap,
en tog het sy lanklaas so verfris gevoel. Sy strek haar soos ’n kat uit, en trek
die laken oor haar kaal lyf. Die geur van aromatiese olies klou nog aan die
beddegoed. Hy het aangedring om sy masseertegnieke op haar te
demonstreer, en sy het nie te hard geprotesteer nie. Hy het haar ook nie rede
gegee om haar besluit te berou nie. Inteendeel. Sy sug behaaglik.
Waar is hy? Sy het sy warm lyf nou-nou nog teen haar rug gevoel. Asof hy
geroep is, kom hy ingestap. Hy het ’n skinkbord in sy hande en ’n breë
glimlag om sy lippe. Hy het gestort, sy hare is nog nat, en hy het net ’n
sweetpakbroek aan. Haar oë streel onbeskaamd oor hom. Haar man. Haar
wonderlike minnaar. Hoe het sy sonder hom oorleef? Nou besef sy eers hoe
afgestomp sy was, hoe sy haar emosies onderdruk en met logika haar
gedagtes probeer beheer het.
Sy stut haar op haar elmboë. “Dit lyk interessant. Wat is dit?”
“Muesli, vars vrugteslaai en jogurt.”
Sy sit regop, vat die skinkbord. “Wonderlik, het jy dit gemaak?”
Hy glimlag. “Nee, ongelukkig nie. Dit kom uit die hotelkombuis.” Hy gaan
sit by haar voete, masseer liggies haar tone. Sy kreun van lekkerkry. Sy vat ’n
happie mango, en smak haar lippe. “Dit proe wonderlik.” Sy buk vorentoe en
voer hom ’n stukkie aarbei. Sy hande verstil op haar voet en hy kyk na haar
bolyf.
“Wat is fout? Jy lyk koorsig?” terg sy kamtig onskuldig en sit regop sodat
die laken verder afsak.
Hy gryp die skinkbord uit haar hande, die lepel val vloer toe. Hy sit alles
eenkant en duik omtrent op die bed. “Jou klein merrie, jy weet presies wat
jou kaal lyf aan my doen.” Sy lag, hy trek die laken af, en druk haar teen die
kussings. Sy mond soek honger na hare. Sy boog haar lyf, soek na kontak
tussen sy harde lyf en haar sensitiewe borste. Haar hande raak besig met sy
sweetpakbroek, stoot dit af, en klem om sy boude. Sy druk haar onderlyf
uitnodigend teen syne en kreun tevrede toe hy met gemak in haar beweeg.
Sy blik hou hare, sy sien sy liefde, sy begeerte vir haar toe hulle weer saam
die spits bereik. Vir nou is dit voldoende bevestiging van hulle liefde. Hulle
sal nog praat, maar eers later. Nou wil sy hom net geniet.
Lank daarna prewel sy teen sy bors. “Ek moet gaan stort.”
“Kan ek saamkom?”
Sy sit lui regop. “Grootbek. Nou begin jy jou stamina oorskat.”
Hy lig ’n uitdagende wenkbrou. “Is dit dalk ’n uitdaging om jou verkeerd
te bewys?”
Sy glimlag skalks terwyl sy hom tevrede dophou. Hy lê op sy rug, sy
hande agter sy kop, met die laken wat net-net sy onderlyf bedek. Dis soos ’n
prentjie uit ’n stoute tydskrif. En sy hoef dit met niemand te deel nie.
Gelukkig weet sy hoe om vinnig te stort. “Wag net hier, ek is nou terug.”
“Ek beweeg nie,” belowe hy.
Sy klim vinnig onder die stort in, geniet die gevoel van warm water wat
oor haar sensitiewe lyf stroom. Toe sy uitklim, hoor sy haar selfoon lui. Sy
vou ’n handdoek om haar lyf. “Antwoord gou, ek is nou daar.”
Hy bring die foon vir haar.
“Wie is dit?”
Hy haal sy skouers op.
“Is dit mevrou Marconi?” Sy herken nie die stem nie.
Sy frons. “Dis reg.”
“Dis suster Fourie wat praat. Ek bel van Middelburg se hospitaal af. Ons
het ’n pasiënt opgeneem wat met ’n motorfiets geval het, ’n meneer Tom
Cloete. Dit het gereën, en die motorfiets het klaarblyklik onder hom uitgegly.
Jou nommer is in sy identifikasieboekie gevind ...”
Sy word yskoud. “Is Tom oukei?”
“Die dokters is nog besig met hom, ek kan dus nog niks met sekerheid sê
nie. Waar kan ek sy familie in die hande kry?”
“Hy het nie familie nie. Ek is op pad.”
“Dis nie nodig nie.”
“Ek is nou daar,” antwoord sy beslis. Verslae laat sak sy die foon, en Nico
kyk bekommerd na haar.
Sy vou haar arms om haar bewende lyf. “Tom was in ’n ongeluk. Hy is in
’n hospitaal in Middelburg. Hy het glo met jou motorfiets op die nat pad
gegly.”
Nico wil haar nadertrek, maar sy tree uit sy omhelsing.
“Het hy baie seergekry?” wil hy weet.
“Ek weet nie, ek hoop nie so nie. Ek wil soontoe gaan. Hy het my nodig.”
“Ek kom saam.”
“Nee, ek sal alleen gaan.” Dan tref die gedagte haar. Tom kon dood
gewees het. Die skok laat ’n skielike vlaag woede in haar opstoot. “Wanneer
gaan jy eendag leer? Wanneer gaan jy ’n bietjie dink voordat jy jou duur
speelgoed vir ander leen? Jy het amper jou suster se dood veroorsaak, nou
kon dit Tom gewees het. Wanneer gaan jy begin verantwoordelik optree?”
Hy verbleek, ’n spiertjie spring in sy wang. Hy sê eers niks. “Ek neem jou
soontoe,” lig hy haar dan beslis in.
Sy draai haar rug op hom. “Ek sal self ry.”
“Moenie stry nie. Ek is nie nou lus vir jou nonsens nie, Eva. Trek net aan.
Ek soek solank vir jou ’n plek om te bly.”
Sy swaai om, steek haar hand uit. “Nico ...” Sy hou nie van die kilheid in
sy stem nie. Dit maak haar bang. Hulle was net besig om ’n ommeswaai te
maak, en nou mors sy dit weer op.
“Bly net stil, anders gaan ek ook goed sê wat kon gebly het. Ek geniet dit
nie om lae houe uit te deel nie, maar jy dryf my soms verby my uiterste vlak
van selfbeheersing. Ek vat jou na Tom toe. Ek sal reël dat iemand jou kom
haal wanneer jy wil terugkom. Ek wag buite.” Hy trek die kamerdeur agter
hom toe.
Verslae staar sy na die toe deur. Sy hou nie van die woede wat sy in hom
sien nie, hy was laas so kwaad toe hy sy goed gevat en geloop het. Sy trek
vinnig aan, pak ekstra klere in ’n sak. Sy gaan bly solank as wat Tom haar
nodig het. Intussen moet sy Nico oortuig sy het te vinnig gepraat, nie gedink
wat sy sê nie.
Nico wag vir haar in sy sportmotor. “Ek het gereël dat jy by ’n gastehuis
oornag, dis binne loopafstand van die hospitaal. Die eienaar sal jou ook
terugbring,” lig hy haar bruusk in.
Sy kyk smekend na hom. “Ek is jammer oor wat ek gesê het. Ek het net
groot geskrik ...”
Hy lig sy hand. “Moenie jou asem mors nie. Ek is nie nou in ’n bui om na
rede te luister nie, ek moet eers afkoel.” Hy sê niks verder vir die res van die
rit nie. Sy probeer ’n gesprek aan die gang kry, hy ignoreer haar botweg, en
sy gee later op. Sy staar na buite, knip haar oë sodat die trane nie val nie. Hoe
het dinge so vinnig in die ou patroon geval? Vanoggend het dinge so goed
gelyk, het dit gevoel asof niks meer in hulle pad staan nie, asof hulle
kwessies uitgesorteer kan word. Maar niks blyk so eenvoudig te wees nie. Ou
persepsies verdwyn nie oornag nie.
Hy hou voor die hospitaal stil.
“Gaan jy nie inkom nie?” wil sy benoud weet toe hy bly sit. Hy maak altyd
die deur vir haar oop, en sy besef die ware omvang van sy woede.
“Nee, sê net vir hom ek is jammer oor wat gebeur het. Ek sal sy mediese
koste betaal en hom later kontak.”
Sy kyk angstig na hom. Nou soek sy eerder sy woede, bo die koue
afsydigheid waarmee hy na haar kyk. “Nico, ek is jammer.”
Hy staar voor hom uit. “Ek is ook jammer. Teen die tyd behoort ek te weet
wat jy van my dink, en dat ek nie jou idee van die ideale man is nie. Ek sal
reël dat die skeisaak vinnig afgehandel word. Kontak asseblief my prokureur,
sodra jy ’n kans het. Ek sal hom volmag gee om namens my op te tree. Jy kan
die woonstel kry, en ek wil niks van jou hê nie. As Tom die regte man vir jou
is, dan is ek bly vir jou. Ek gun jou geluk.”
Afgehaal kyk sy hoe hy die passasiersdeur toetrek en wegry. Hy weet nie
waarvan hy praat nie. Dink hy sy is hier omdat sy Tom bo hom verkies? Sy
haal haar foon uit en probeer hom bel. Hy antwoord nie. Moedeloos sit sy die
foon weg. Sy sal die misverstand moet regstel, saam met die ander
verwarring wat tussen hulle staan, maar eers moet sy by Tom kom, om seker
te maak hy is oukei. Daarna moet hulle eens en vir altyd hulle kwessies
uitpraat. Gisteraand was nie ’n oppervlakkige saamwees nie, dit was die
herbevestiging van hulle liefde. Dit was die begin van iets nuuts tussen hulle.
Sy weet dit, en hy moet dit besef.
Soos ’n zombie stap sy die hospitaal in en word na die derde vloer verwys,
waar sy Tom in ’n privaat kamer vind. Op die oog af lyk hy perdfris, ’n paar
skaafmerke hier en daar, en sy linkerarm is in ’n verband. Verlig omhels sy
hom. “Ek is so bly jy het niks oorgekom nie. Ek is jammer hieroor.”
Hy kyk verbaas na haar. “Waaroor is jy jammer? Ek het met die motorfiets
gery en ek het geval. Gelukkig het ek lig daarvan afgekom, ’n blou kol of
twee, ’n paar plekke wat nie meer vel het nie, en ’n gekraakte arm. Maar niks
ernstigs nie.”
“Ek is bly om dit te hoor. Ek voel so sleg. Ek moes Nico gekeer het. Jy ken
nie die fiets nie en ry nie gereeld genoeg nie.” Sy sug moedeloos. “Ek het
Nico blameer vir die ongeluk.” Sy moet teenoor iemand bieg, dalk help dit
haar om perspektief te kry.
Hy lyk verward. “Hoe kom jy by daardie antwoord uit? Ek weet hoe om te
ry, maar die pad was nat, en ek het my draai te kort gevat. Toe val ek. Dis my
fout, niemand anders s’n nie.”
Sy maak ongemaklik keelskoon, weet nie hoe om haar te verontskuldig
nie. “Ek ...”
Hy gee haar nie kans nie. “My hemel, Eva, ek kan nie glo jy dink sulke
nonsens uit nie, jy is tog ’n redelike mens. Ek kan nou nog nie glo jou man
het sy motorfiets vir my geleen nie. Ek sou dit nie eens vir my beste vriend
geleen het nie. Dit wys my net hoe vrygewig is hy, en nou moet ek hom in
die oë gaan kyk nadat ek sy motorfiets afgeskryf het. Jy maak dit natuurlik
nie makliker met jou dom aantygings nie.”
Sy laat sak haar kop. Sy kan nie stry nie, en hy laat haar nog meer soos ’n
skurk voel.
Tom frons vies. “Nou begin dit amper sin maak. Nou weet ek hoekom die
arme drommel vir maande padgee, want as ek sulke simpel aantygings moes
aanhoor, sou ek ook op ’n seiljag gaan wegkruip het.”
Sy trek haar asem skerp in. Dis ’n bietjie van ’n lae hou, al het dit ’n
sweempie waarheid in. Waar is die man wat haar tot nou toe ondersteun het?
Hoe kan hy sy alliansie netso verander? “Hoe kan jy so iets sê?”
Hy sug moedeloos. “Jammer, dis seker kras gestel. Ek wil jou nie
seermaak nie, veral nie na jy al die pad gekom het om my te sien nie. Ek hou
egter van jou man. Hy het nog die heeltyd korrek teenoor my opgetree, selfs
sy duur motorfiets vir my geleen.”
“En tog het hy jou gefop oor hoe jy teenoor my moet optree.”
Hy grinnik ongeërg. “Blameer jy hom? Lyk my jy het nie ’n benul hoe ’n
man se kop werk nie. Hy is lief vir sy vrou en hy is nie ’n swakkeling wat
haar in ’n geskenkdoos met ’n rooi strik om aan ’n ander man gaan oorhandig
nie.”
“Hoekom dink jy hy is nog lief vir my?” Sy soek ’n stukkie bevestiging,
selfs van ’n buitestander. Sy sukkel om dit te glo, veral as sy na haar gedrag
kyk. Hoe kan hy lief wees vir haar ná alles wat sy aangevang het?
“Want ek het oë in my kop. En ek hoor hoe hy oor jou praat. Dis hoekom
ek gisteraand geïrriteerd was. Ek is jaloers op julle. Ek het dit nie, ek ken dit
nog nie, en ek wil dit baie graag hê. Ek het gehoop daar is iets spesiaals
tussen ons, maar nou weet ek jy is nie die vrou vir my nie, en jy het nog jou
man lief. Al wil jy dit nie erken nie.”
“Hy is kwaad vir my. Hy wil nou die skeisaak vinnig verby kry.” Sy kan
nie glo die patetiese stemmetjie behoort aan haar nie.
“Partykeer sê en doen ons goed wat ons nie noodwendig bedoel nie, net
om onsself te beskerm. Hy is lief vir jou, en jy vir hom. Is dit nie op die ou
end die belangrikste nie? Gaan terug na jou man toe, gaan praat dinge uit. Jy
moenie later lang trane huil omdat jy jou kanse opgemors het nie.”
Sy kyk verbaas na hom. Sy het nie sy ondersteuning verwag nie, en hy het
nie ’n idee hoeveel dit vir haar beteken nie. Nou weet sy ook hulle kan
vriende bly, selfs al is sy en Nico weer bymekaar. “Jaag jy my weg?” vra sy
speels.
Hy lag. “Glad nie, maar jy sien mos ek is springlewendig. Ná vanoggend
besef ek hoe kort die lewe is, en ’n mens moenie tyd mors met wonder oor
hoe anders dinge kon gewees het nie. Ek is miskien nie getroud nie, maar ek
hanteer genoeg skeisake om te sien hoe dinge werk. Of eerder nie werk nie.
Die huwelik is vrek harde werk, en ’n mens hardloop nie weg vir elke
struikelblok wat oor jou huwelikspad kom nie. Jy het baie
deursettingsvermoë, gaan gebruik dit op die regte plek.”
Sy soen hom op die voorkop. “Dankie, ek is bly ons kon hieroor praat. Nou
gaan ek jou raad volg, en huis toe gaan. Ek sal jou gereeld bel.”
Hy glimlag skelm. “Doen my ’n guns. Wanneer jy jou skoonsuster sien, lig
haar oor my erge ongeluk in en vertel haar dat ek kan doen met ’n bietjie
vroulike aandag.”
Dertien
Sy wou vroeër kom, maar sy wou nie die eienaar van die gastehuis verontrief
nie, en het ingestem dat hulle eers laatmiddag ry. En nou is sy te laat. Hy is
nie by die woonstel nie. Van sy klere is uit sy kas weg. Hy antwoord nie sy
selfoon nie. Gaan hy nou weer verdwyn? En haar net so los? Oor een klein
misverstandjie? Miskien nie heeltemal so klein nie, veral nie met hulle
geskiedenis nie. Sy trek haar skouers gedetermineerd terug. Maak nie saak
waar hy is nie, sy sal hom in die hande kry. Hy sal maar net moet luister, of
hy wil of nie. Dié keer raak hy nie so maklik van haar ontslae nie.
Haar selfoon lui. Sy antwoord vinnig. “Eva, dis Vicky. Is jy by die huis?
Ek is hier onder by ontvangs.”
“Kom op, asseblief.” Sy sug verlig. Net die persoon na wie sy soek. Sy sal
weet waar Nico is. Of sy hoop so.
Vicky lyk omgekrap toe sy instap. “Ek is verlig jy is hier. Wat is nou weer
aan die gang tussen jou en my broer?”
Eva het nie lus vir verduidelikings nie. “Waar is hy?”
“Sak en pak Kaapstad toe. Ek het hom nou net by die lughawe afgelaai. Hy
skuif sy kantoor soontoe. Ek kan dit glad nie verstaan nie. Het julle weer
baklei?”
Eva knik gelate. “Dis ’n misverstand. Ek sal dit regstel.”
Vicky sug moedeloos. “Ek weet lankal daar is iets fout, al gee ek voor dat
ek niks weet nie. Kan julle asseblief julle geskille eens en vir altyd uitsorteer?
Ek is gedaan van bekommernis. Ek wil tog nie hê julle moet mekaar los nie.”
“Waar kry ek hom in die hande?”
“Dis hoekom ek hier is.” Sy maak haar handsak oop. “Ek het vir jou ’n
vliegkaartjie Kaapstad toe gekoop. Jy moet oor ’n uur by die lughawe wees.
Hy is op pad na sy seiljag toe.”
Verbaas vat Eva die kaartjie. “Jy het ’n vet kans gevat. Wat as ek nie hier
was nie, of nie wou gaan nie?”
Sy haal haar skouers op. “Dan het ek dit aan skoolgeld afgeskryf. Ek weet
egter julle is lief vir mekaar.”
Eva omhels haar. “Dankie dat jy soveel omgee.”
Vicky glimlag tevrede. “Ek het goeie nuus, ek en Nico het uitgevind waar
my probleem lê.”
Eva frons verbaas. “Hoe so?”
“Kort nadat julle met die projek begin het, het ek my bekommernisse oor
een van my bestuurders met Nico gedeel. Haar uitspattige lewenstyl het net
nie gepas by haar inkomste nie. Ons het agtergekom sy skep fiktiewe
rekeninge waarheen sy my geld verplaas. Ek wou eers niks sê nie. Ek was
bang ek sit heeltemal die pot mis, en dan lyk ek soos die idioot. Toe help
Nico my met die ondersoek en hy bevestig dat ek reg is. Ons het dit nou
onder die aandag van ons ouditeure gebring wat dit verder sal ondersoek.
Hopelik is dit ’n duur les waaruit ek sal leer. Ek kan niemand vertrou nie.
Nico voel egter dat jy steeds die ondersoek moet klaarmaak, net sodat ek
weet waar ek dalk nog tekort skiet.”
Eva knik instemmend. “Dis goed, maar nou wil ek eers weet hoe ek op die
seiljag kom?”
Vicky glimlag. “Los dit in my bekwame hande, ek sal vir jou ’n SMS stuur
met al die inligting. Gaan pak jy net jou goed, ons moet ry.”
Eva huiwer. Sy het Tom belowe, maar sy is bang sy begin iets wat kon bly.
Sy weet nie hoe Vicky sal reageer nie. “Nico het jou seker van Tom se
ongeluk vertel.”
Vicky knik. “Ja, dis slegte nuus. Ek hoor darem hy is nie so ernstig beseer
nie. Hy het seker sy spoed onderskat, soos ek destyds met Nico se sportmotor
gedoen het.”
Eva kyk onseker na haar. “Jy wil nie dalk ’n draai by hom maak nie, terwyl
ek nie hier is nie? Net om seker te maak hy sterk behoorlik aan.”
Vicky kyk agterdogtig na haar, en lag dan. “Ons kan in die kar daaroor
praat. Dit kan seker nie skade doen nie.”

Iets voel nie heeltemal reg nie. Eva kyk na die groot seiljag voor haar. Sy het
net te maklik hier uitgekom, nêrens is sy voorgekeer nie, niemand het haar
gevra wat sy soek nie. Kon Vicky regtig dit alles reël?
En die seiljag is in donkerte gehul, dis net die kerse weerskante van die
loopplank wat ’n mate van lig voorsien. Is Nico ooit hier?
Sy kyk weer na die verligte waterfrontkompleks agter haar, en in die verte
hoor sy die see se dreuning. Daar is maar net iets aan die plek wat ’n mens
bekoor, sy kan verstaan dat Nico hier wil bly. Maar nie sonder haar nie,
besluit sy beslis.
Weer bekyk sy die luukse jag. Dit moet syne wees, haar naam staan in
sierletters op die romp geskryf. Sy het dit destyds as ’n baie romantiese
gebaar beskou toe hy sy jag na haar vernoem het. Dit was ook ironies dat
haar naamgenoot hom van haar weggevat het.
Sy kyk weer na die flikkerende kerse. Wat as hy iemand verwag? Miskien
’n ander vrou? Sy stoot die gedagte onmiddellik weg. Hy sal dit nie doen nie.
Ná gisteraand is daar nie meer twyfel in haar hart nie.
Miskien huur hy die seiljag uit, en bly hy in een van die hotelle. Dalk het
Vicky verkeerd verstaan. Maar sy moet seker maak. Sy gaan nie nou omdraai
nie.
Huiwerig stap sy tot op die dek. Nie ’n siel is in sig nie. Maar iemand word
verwag. ’n Tafel is met kristal en silwer gedek, ’n bottel vonkelwyn staan op
ys. Rondom die borrelbad is roosblare gestrooi, nog kerse dryf op die
swembad se donker oppervlak. Sy kou onseker aan haar lip. Sy hoop nie sy
maak inbreuk op iemand se romantiese aandjie nie. Sagte musiek kom van
die kajuit af aangesweef, ’n liefdesballade. Een van haar gunstelinge. Sy
glimlag ligweg. Die persoon wat die aandjie beplan, weet hoe om die regte
stemming te skep.
Sy draai om toe sy ’n geluid agter haar hoor. Nico staan by die trappe wat
lei na die kajuit. Hy het ’n swart hemp en broek aan, en hy is die mooiste
gesig wat sy in ’n lang tyd gesien het. Hy lyk hoog in sy skik met homself,
nie soos iemand wat kwaad is nie. Hy lyk ook nie verbaas om haar te sien
nie. “Hallo, my Eva. Welkom aan boord van ons seiljag.”
Sy kyk stil na hom, dan na die gedekte tafel en die vonkelwyn. En skielik
val alles in plek. Hy het haar hierheen gelok. Met sy suster se hulp. Hy het
die plek vir hulle voorberei. Sy sit haar rugsak neer, en maak of sy vies is. “Jy
het alles beplan.”
Hy glimlag gemaklik. “En ek was tot nou toe nie seker of jy gaan opdaag
nie. Nie eers toe Vicky bevestig dat jy op die vliegtuig is nie. Met jou bly
enige beplanning ’n dobbelspel, ek het dit op die harde manier met ons
mislukte wittebrood geleer. Maar ek bly altyd hoopvol.” Hy stap stadig
nader, vat haar hande en bring dit na sy lippe. Sy lippe streel oor haar
kneukels, sy oë beweeg liefdevol oor haar. Sy sug diep, en voel hoe die laaste
bietjie spanning uit haar wegvloei. Hulle gaan dinge uitwerk. Hulle is vir
mekaar bedoel, en albei wil die huwelik laat werk.
Sy kyk na die kerse, die blomme, die vonkelwyn, die musiek en die uitsig.
Wat meer kan ’n vrou vra? Hierdie wonderlike, romantiese man is hare. Die
gedagte oorweldig haar. Wat het sy gedoen om so gelukkig te wees? “Jy het
Vicky gebruik.”
Hy glimlag tevrede, druk haar hande teen sy bors, waar sy die
onreëlmatige klop van sy hart kan voel. “Waarvoor het ’n man ’n suster as sy
hom nie met sy liefdeslewe kan help nie?”
“En ook nie vir die eerste keer nie?” raai sy.
Hy haal sy skouers op. “Sy was van die begin af deel van my plan om jou
terug te wen. Sy het my oor die probleme by haar spa’s ingelig, en ek het
voorgestel sy vra jou hulp. Dit was natuurlik die ideale verskoning om terug
te kom. Ek kon darem nie net ná maande hier instap asof niks verkeerd was
tussen ons nie, al wou ek baie graag. Ek moes eers die waters toets, en toe
kom ek agter dis redelik koud.” Hy glimlag skeef. “Toe het ek dit maar dag
vir dag gevat, ingestem tot die skeisaak terwyl ek jou weer sagmaak.” Hy kyk
verskonend na haar. “Vicky weet van ons probleme. Sy was die enigste een
met wie ek daaroor kon praat.”
“Sy het my vertel, maar sy het ook baie goed toneel gespeel. Dit het regtig
gelyk asof sy verras was toe jy by my kantoor instap.”
“Sy het my nie toe al verwag nie, en ek het haar nie al die besonderhede
gegee nie.”
“Was dit nodig om met ’n pragtige blondine daar in te stap? Kon jy nie net
alleen kom nie?”
Hy lag. “Deidre is my niggie, en daarom kan ek niks vreemd daarin sien
nie. Sy het saam met my teruggekom omdat sy nie alleen op die boot wou
agterbly nie, en sy wou oor moontlike werk met Vicky praat, en natuurlik
wou sy jou graag ontmoet. Jy het haar egter meer geïgnoreer as vir my.”
Sy kyk verontwaardig na hom. “Wat verwag jy? Ek gaan nooit opgewonde
wees as ek ’n beeldskone meisie aan jou sy sien nie, maak nie saak hoe
onskuldig dit is nie.”
Hy streel oor haar wang. “Ek hou van jou besitlikheid, solank jy nooit
twyfel aan my liefde vir jou nie. Jy is die enigste vrou vir my.” Sy blik
bevestig sy woorde, die liefde wat sy daar sien spreek vanself. Hoe kon sy dit
ooit miskyk? Want nou lyk alles skielik verskriklik eenvoudig. Dit waaroor
sy die meeste getwyfel het, was nog altyd daar. Hy het haar lief. Vir haar en
niemand anders nie. Selfs nadat sy hard probeer het om hom te verstoot. Hy
is nie haar onbetroubare pa nie, hy sal haar nie in die steek laat nie. Maar sy
moet alle onsekerhede uit die wegruim. ”En Sheila? Julle was die laaste ruk
baie saam, het dit haar nie ’n verkeerde idee gegee nie?”
Hy skud sy kop beslis. “Nee, want juis omdat ek geweet het ons gaan nou
saamwerk het ek dit duidelik gestel dat ek nie kantoorromanse goedkeur nie,
en dat daar net een vrou is vir wie ek lief is, en dis jy.”
Sy glimlag verlig.
Hy lig haar ken, sy lippe streel oor hare. “Ons moet praat. Ek gaan nie
opgee met ons huwelik nie. Nie nou nie, nooit nie.”
Sy druk haar kop teen sy skouer. “Jy was vanoggend kwaad vir my.” Dit
voel omtrent soos ’n ewigheid tussen toe en nou. Vanoggend het sy gedink sy
het haar kanse finaal opgemors, nou lê die toekoms weer blink voor haar.
Hy stoot haar effens weg, sodat hy haar in die oë kan kyk. “En dit sal seker
nog gereeld gebeur, want jy is soms ’n hardkoppige entjie mens, maar dit
beteken nie dat ek gaan ophou om jou lief te hê nie.”
Sy slaan haar arms om sy nek. “Ek is lief vir jou, was dit van die eerste
oomblik wat ek jou gesien het, en is dit nou nog meer. Selfs my skeipraatjies
kon niks daaraan verander nie. Dis my eie onsekerhede wat ons by ons krisis
gebring het.”
Hy glimlag. “Ek weet jy is lief vir my. Jy is dalk suinig met die woorde,
maar gisteraand het ek dit opnuut ervaar in die manier waarop jy jou liggaam
vir my gegee het. Ek moes myself net daaraan herinner toe ek kwaad was oor
jou beskuldigings en die manier waarop jy alles los om agter Tom aan te
gaan, en nie eens my ondersteuning wou hê nie. En om alles te kroon, die
skuld op my pak!”
Sy kyk smekend na hom. “Tom was beseer, ek het nie eens geweet hoe
ernstig nie. Ek moes seker maak hy is oukei. En my aantygings was
ongevraag, ek het net erg geskrik en toe goed gesê wat nie sin maak nie.” Sy
sug moedeloos. “Wat heeltemal onregverdig was.”
Sy gesig versober. “Ek is ongelukkig jaloers op die man, en wanneer sy
naam ter sprake kom, verloor ek kop. Ek wou hom vermorsel toe hy die
eerste keer by die woonstel opdaag.”
Sy glimlag tevrede. “Maar jy het nie, en dis juis hoekom Tom dink jy is so
’n wonderlike ou.”
Hy skud sy kop. “Hy moenie te veel daarin lees nie. Ek het dit bloot
gedoen omdat ek geweet het die teenoorgestelde gedrag kan jou wegstoot.”
Hy sug moedeloos. “Jy het nie die vaagste idee van die hel wat ek op hierdie
boot deurgemaak het toe jy nie kom nie. Ek het meer as ’n week vir jou
gewag, en toe vaar ek maar die see in. Weg van jou, weg van die
herinneringe. Ek wou bepaal waar alles foutgegaan het, waar ek verbrou het.
Ek het vir ’n lang ruk ook nie met Vicky kontak gemaak nie, ek wou net
wegkom van alles en almal. Sy sou aan my karring om terug te kom, en ek
was nie reg daarvoor nie.”
Nico skud sy kop effens. “Toe word my ontvlugting ’n
selfontdekkingsreis. Ek het baie lande besoek, was selfs ’n ruk lank in ’n
klooster waar ek tyd gekry het om oor my lewe te dink. Ek het gedink oor jou
beskuldigings, dat ek nie verantwoordelik is nie, dat ek die lewe nie ernstig
opneem nie.” Hy glimlag liggies. “Jy gaan seker dink ek is mal as ek dit sê,
maar dis soms net so moeilik om ryk te wees as om arm te wees. Ek kan alles
koop wat ek wil hê. Ek hoef nie te werk nie, want my geld stroom in sonder
dat ek ’n vinger lig. Ek hoef nie besluite te neem nie, want ek omring my met
kundiges. Wat bly dan oor? ’n Lewe waar ek van een plesierigheid na ’n
ander beweeg. My sukses op die aandelemark het op die regte tyd gekom,
juis toe ek iets substansieel nodig gehad het, iets wat ek op die lange duur
wou doen. Ek wou jou so graag vertel, my suksesse met jou deel, maar dit
was reeds te laat. Ek was te lank weg, te veel water het in die see geloop. Ek
kon nie terugkom asof niks gebeur het nie. En nie terwyl dit lyk asof jy baie
goed sonder my oor die weg kom nie.” Hy kyk effens verleë na haar. “Ek
moet bieg, ek het ’n privaat speurder aangestel om my op hoogte te hou van
jou doen en late.”
Sy haal haar skouers op. “En ek het een gekry om jou op te spoor, sodat
ons die skeisaak kon afhandel. Hy kon jou net nooit vastrek nie.”
“Ek het seker gemaak niemand kry my in die hande nie. Skei was nooit ’n
opsie nie, nie terwyl ek jou met elke vesel in my gemis het, elke dag aan jou
gedink het nie. Ek is lief vir jou, was nog altyd, sal altyd wees.”
Sy vryf teer oor sy wang. “Ek het probeer om jou te vergeet deur my
morsdood te werk. Maar daar was aande wat jy by my gespook het, wat ek
oor jou getob het, aande wat ek jou in elke kamer gesien het, jou stem gehoor
het. Ek het kopspeletjies begin speel, myself wysgemaak ek het die regte
besluit geneem, want jy is nie die man vir my nie. Die bluffery kon ook net
tot op ’n punt werk. Ek moes iewers begin eerlik raak. En vir die eerste keer
kon ek erken ek was bang jy los my omdat ek nie opwindend genoeg is nie.
Ek was bang jy hou op lief wees vir my, nes my pa. Daarom wou ek skei,
voor ek te seerkry. Jy het my natuurlik heeltemal onkant betrap toe jy instem,
en dit nadat jy eers teëgestribbel het.”
“Ek moes saamspeel, maar hoekom dink jy het ek nooit vir afsprake
opgedaag nie? Jy sou my nie in ’n skeihof kry nie, al moes ek ’n prokureur
voltyds aanstel om struikelblokke in jou pad te sit. Intussen het ek my weer
stewig in jou lewe gevestig deur ’n huis te deel, en sommer my kantoor langs
joune in te rig. Jy sou my nie kon ignoreer nie, maak nie saak wat jy probeer
het nie.” Hy trek haar stywer teen hom vas. “Toe jy op die soen bie, toe weet
ek ek het gewen. Ek kon dit in jou oë sien, en in jou aanraking voel.”
“Jy is reg, ek het dit ook eers toe besef.”
Sy hande streel oor haar rug. “My Eva. Ons het soveel tyd gemors. My
trots het my weggehou, maar dit was nie omdat ek opgegee het met ons nie.”
Sy glimlag. “Trek ons hierheen, of was dit alles net deel van ’n slinkse
plan om my hier te kry?”
“Ons bly in Johannesburg,” antwoord hy beslis.
Sy sug verlig. “Ek hoop jou stalker pla jou nie meer nie, ek voel nog sleg
daaroor.”
Hy glimlag. “Nee, sy los my nou uit, ek dink die gesoenery in die
restaurant het die boodskap tuisgebring.”
Sy wys na die vonkelwyn. “Wat gaan ons nou doen?”
Hy soen haar teer op haar lippe. “Ons sal nog by daardie deel kom, ek wil
eers ’n ander voorstel maak. Ek wil jou graag Europa toe neem, op die
wittebrood wat ek beplan het. Ek wil jou Italië en die res van Europa wys
soos ek dit ken, ek wil jou aan die res van my familie voorstel, saam met jou
in ’n gondel ry, by romantiese plekke gaan eet, en net jou geselskap geniet.
Sal jy saamkom?”
Sy glimlag breed. “Waarvoor wag ons?”
Hy lag verbaas. “Bedoel jy nou? Is jy ernstig?”
“Doodernstig.” Sy wys na haar rugsak. “Ek het alles wat ek nodig het, ’n
bikini, ’n tandeborsel, en ’n skoon rok. En as ek iets kort, koop ek dit.”
Hy kyk ernstig na haar. “Wat van jou werk?”
“Ek is seker Sheila sal nie omgee om ’n oog te hou nie, en ek dink Vicky
sal verstaan as ons haar projek vir ’n ruk uitstel.”
Hy haal ’n dosie uit sy sak en maak dit oop. Sy troupand en ’n vreemde
diamantring is daarin. “Ek wil weer vanaand ’n troubelofte aan jou maak. Ek
is daar vir jou, in voorspoed, maar ook in teenspoed. Ek is lief vir jou,
wanneer dit goed gaan met ons, maar ook wanneer ons probleme in die gesig
staar. Jy is die vrou wat vir my geskep is, en ek wil die res van my lewe saam
met jou deurbring, en ek sal alles in my vermoë doen om jou gelukkig te
hou.” Hy stoot die diamantring oor haar vinger, en in verwondering staar sy
na die indrukwekkende ring met sy vele diamante, en dan na hom.
“Ek moet eers bieg, ek het nie meer my troupand nie. Ek was kwaad, en
toe gooi ek dit oor die balkon.”
Hy lag. “Dit maak nie saak nie, ek skuld jou lankal ’n behoorlike
diamantring.”
Sy vat sy troupand, en stoot dit oor sy vinger. “Ek is jou vrou, jou
minnares en jou maat. Sonder jou het my lewe geen sin nie. Jy is al wat ek
nodig het om gelukkig te wees.” Sy sug in vervoering. “Dis perfek. Alles is
perfek. Die ring, die idee. Jy. En die toekoms.”
Kylie se keuse
Een
Kylie Visser swenk links met die gehuurde motor om die impak met die
stilstaande bakkie te verminder. Die skerp geluid van glas en staal op staal
volg.
Geskok klim sy uit. Die motor spog nou met ’n gebreekte hooflig en ’n
krapmerk. Die bakkie, swaar gelaai met kompossakke, is minus sy agterlig.
Wonderlik! Wat ’n terugkoms. Haar pa gaan vies wees. Hy het lankal
geduld met haar verloor oor die skade wat sy aan sy motors aangerig het,
maar gelukkig is dit hierdie keer nie haar skuld nie. Waar is die idiotiese
tuinier wat die werkbakkie op ’n blinde hoek na die hoofingang parkeer?
“Is jy oukei?”
Sy swaai om. Teregwysende woorde stol op haar lippe. Haar brein
registreer net een feit – die man het nie ’n hemp aan nie! Haar blik talm op
die bruingebrande borskas voor haar. Sweetdruppels blink tussen die donker
borshare wat onder die grondbesmeerde jeans verdwyn. Haar blik volg
langsaam die lang pad na bo, verby die vierkantige ken, die vol mond, die
prominente wangbene, die donkerbruin hare met songebleikte bruin strepe
wat oor sy voorkop hang en effens in sy nek krul. Wat ’n aantreklike man!
Sy sterk mond glimlag breed. Sy tande is spierwit en ’n verspotte kuiltjie
verskyn in sy linkerwang, vreemd in die manlike gesig. Sy vermoed haar
tydsame betragting amuseer hom en kyk uitdagend in sy groen oë.
Groen, het sy iewers gelees, simboliseer balans en harmonie. Wel, hierdie
teorie is pas verkeerd bewys. Groen oë, met soveel warmte en intelligensie, is
besig om ’n wanbalans in haar gestel te veroorsaak. Waarom anders die droë
mond, die klamheid op haar vel en die bewerigheid in haar lyf? Seker die
ongeluk. Hoewel dit dalk gouer ’n uitwerking moes gehad het. Miskien
vlugvoosheid? Amerika ís darem baie ver.
“Kylie!”
Haar kop ruk in die rigting van die veraf geroep. Haar jong sussie, geklee
in ’n wit kortbroekie en geel hempie, kom met die geplaveide afrit
afgehardloop terwyl haar blonde poniestert op en af wip. Kylie omvou haar in
’n warm omhelsing.
“Jy is terug! Het jy seergekry? Wanneer het jy gekom? Weet Pappa jy is
hier? Hoe lank bly jy?”
“Wag! Gee my kans.” Kylie tree effens weg en beskou Anja liefdevol. Die
helderblou oë, soos hare, blink opgewonde.
“Ek is oukei. Net geïrriteerd.” Sy draai weer na die tuinier. Die
onderbreking het haar kans gegee om tot verhaal te kom. “Het jy die bakkie
hier geparkeer?”
“Ja, ek is jammer. Ek het nie verwag iemand sal so vinnig om die draai
kom nie.”
Hy lyk nie vreeslik jammer nie, want hy glimlag breed.
Haar blonde vlegsel swaai oor haar skouer terwyl sy woes beduie.
“Vinnig! Ek het stadig gery! Dis jou skuld.” Sy hou ’n waarskuwende vinger
in die lug. “Ek hoop jy het ’n verduideliking reg vir my pa, én jy gaan my vir
die skade vergoed.”
Hy glimlag nog breër. Hy ken nie sy plek nie, besluit sy. Haar pa het seker
’n aandeel daarin. Hy was nog altyd te familiêr met sy blouboordjiepersoneel.
Ten spyte van haar ma se misnoeë, het hy gereeld konstruksiewerkers by sy
huis onthaal.
Wel, sy is terug en dinge gaan verander. Sodra sy beheer van haar pa se
maatskappy oorneem, sal die personeel vinnig besef dat hul benaderings
verskil. Klasseverskille is nie soseer die kwessie nie. Deur projekte vir die
Vryheidskorps het sy haar kundigheid met die armoedigste van nasies gedeel.
Werkverhoudings word egter maklik versuur wanneer daar nie onderskeid
getref word tussen werk en vriendskap nie. Daardie boodskap het sy met
moedersmelk ingekry.
“As u so sê, professor Visser.”
Sy gelate opmerking bluf haar nie. Sy vertrou nie daardie diep kuiltjie in sy
wang nie, so asof hy haar optrede vermaaklik vind. En hoe weet hy wie sy is?
Sy het hom nog nooit tevore gesien nie. En dis ook nie ’n man wat jy maklik
sal vergeet nie.
Sy kyk hom ondersoekend aan. Duiweltjies dans in sy groen oë en sy kry
meteens die ongemaklike gevoel dat daar meer agter hierdie man skuil as wat
sy met die eerste oogopslag kan afei.
“Jy is verskoon. Jy het seker baie tuinwerk wat wag. Jy kan in jou vrye tyd
vir die herstel van die motors reël.”
Haar snipperige opmerking het nie die gewenste uitwerking nie. Hy vou sy
arms en kyk op haar neer. Haar blik volg die beweging van sy bultende
boarmspiere. Hy is in oormaat man. Dié gedagte is lastig en sy dwing haar
blik boontoe.
“Waarvoor wag jy?” Sy probeer haar onsekerheid deur haar kwaai woorde
wegsteek. Sy weet hoe om verfynde mans te hanteer. Macho mans is ’n ander
storie, hulle laat haar ongemaklik voel en daarom vermy sy hulle sover
moontlik.
Steeds betrag hy haar geamuseerd. Anja giggel.
Kylie draai om en stap in die rigting van die dubbelverdieping-
grasdakhuis. Sý dink nie dis snaaks nie. Al wat sy met sekerheid weet, is dat
die tuinier arrogant is. Net omdat hy ’n oormaat sjarme het, beteken dit nie hy
is op spesiale behandeling geregtig nie. Dis seker al waaraan hy gewoond is.
Sy kan haar voorstel hoe die vroulike geslag oor hul fyn voetjies val om sy
behoeftes te bevredig wanneer hulle daardie kuiltjieglimlag sien.
“Kom,” roep sy oor haar skouer vir Anja, wat nog bly staan. “Die tuinier
kan my bagasie inbring.” Sy gooi haar sleutels in sy rigting en hy vang dit
sekuur.
Nou lag Anja uitgelate. Sy volg haar egter gedwee toe Kylie waarskuwend
na haar kyk.
By die trappies na die voordeur talm Kylie terwyl Anja vooruitstap. Sy
moet eers bedaar voordat sy haar pa groet.
Haar oë dwaal oor haar pa se tuin met sy groot bome, kleurryke beddings
en fonteintjies. Wat ’n lushof. Haar pa het nog altyd ’n besonderse
aanvoeling vir tuinuitleg gehad. Die omgewing stem haar onmiddellik
rustiger.
Dis egter meer as die huis wat die gevoel van geborgenheid meebring, die
gedagte aan haar pa is deel daarvan. Hier het hy haar geleer om te lees, om
fiets te ry en hoe om na uitnemendheid te streef. Sy het vir hom sukses
behaal, want sy wou in alle opsigte soos hy wees.
Sy weet daar is ’n nuwe vrou in sy lewe, haar derde stiefma en sy gewese
sekretaresse, maar snaaks genoeg intimideer die gedagte haar nie. Sy was nog
nooit jaloers op die ander vroue in sy lewe nie, want sy weet sy dogters sal
altyd eerste kom.
Die tuinier is besig om haar laaste bagasie uit te haal. Sy stap vinnig die
huis binne. Sy is nie van plan om so gou weer in ’n konfrontasie met hom
betrokke te raak nie.
Die geur van die grasdak omvou haar toe sy instap na waar Anja wag. Sy
kyk waarderend rond na die swaar dwarslêertrappe wat na die boonste
verdieping lei, die handgemaakte Afrikamatte op die klipvloer, die subtiele
beligting.
Sy sug tevrede. “Die plek het nie veel verander nie. Hoeveel jaar gelede
was ek hier? Vyf, ses?” wonder sy hardop.
“Elnette het probeer, maar Pappa het haar nog nie veel kans gegee nie. Aan
die ander kant, hulle is darem net drie maande getroud. Dis seker nog te
vroeg om haar stempel af te druk.”
Kylie knik instemmend en volg Anja na die sitkamer. Hier is klein
veranderings aangebring. Die leer van die sitkamerstel is deur effe bekleedsel
in diep maroen vervang en nuwe bont matte lê versprei oor die teëlvloer. Die
swaar dwarslêermeubels skep ’n gevoel van warmte en gemak. Growwe
groen gordyne is weggetrek om die maksimum lig binne te laat. Die roostuin
en die swembad is deur die groot vensters sigbaar.
Sy kyk na Anja. “Ek het gisteraand aangekom en sommer in ’n hotel
oorgebly. Ek is vir goed terug.”
“Wow, Pappa gaan daarvan hou. Jy kan hom nie ’n groter geskenk gee nie.
Hy was so spyt dat jy nie sy troue kon bywoon nie. Jy woon seker vanaand se
partytjie by?”
Hulle gaan sit oorkant mekaar.
“Watter partytjie?”
“Elnette gee ’n groot paartie vir sy verjaardag. Almal wat iemand is, sal
hier wees,” beduie Anja.
Kylie kan nie langer die vraag keer nie. “Waar is Pappa? Ek brand om hom
te sien.”
“Waar anders as op die gholfbaan op ’n Saterdag? Hy sal weer op die
laaste oomblik net voor die partytjie hier inhardloop om gou te stort. En
indien jy gewonder het, Elnette is by die haarkapper.”
“Hoe kom jy en Elnette oor die weg?”
Anja haal haar skouers ongeërg op. “Oukei. Sy los my om my gang te
gaan.”
“Jy is vanjaar in matriek?”
Anja knik.
“Ek kan nie glo my sussie wat gebore is toe ek matriek geskryf het, is self
nou daar nie.” Kylie skud haar kop in verwondering. Vreemd hoe min kontak
hulle vanweë die ouderdomsverskil gehad het en later as gevolg van die
afstand, en hoe goed hulle steeds kliek. “Hoe gaan dit in jou laaste jaar?”
“Maklik. Ek is mos gebore met ’n dubbele dosis van jou briljante brein. Ek
gaan nog beter vaar as jou agt onderskeidings.”
Kylie knik beïndruk. “Wat is jou planne vir volgende jaar?”
Anja draai haar kop skuins. “Ingenieurswese, wat anders? Ek weet net nie
of ek in siviel soos jy, of meganies soos Pappa wil spesialiseer nie.”
“Noudat ek terug is, moet jy tyd saam met my by die maatskappy
deurbring. Dis die beste manier om vas te stel waar jou belangstelling lê.”
“Dit sal fantasties wees! Ek skimp gereeld, maar Pappa wou nog nie
daaraan byt nie. Ek hoop jy het iets om vanaand te dra. Maar dan, met jou jet
set-lewe is dit seker ’n dom vraag.”
Kylie glimlag. “Jammer om jou teleur te stel. Behalwe die ruk saam met
Jonathan was die Vryheidskorpsprojekte in afgeleë dele van Asië nie ’n jet
set-lewe nie, maar ek vertel jou later alles daarvan.”
“So gepraat van Jonathan, waar is hy?” Anja skuif afwagtend na die punt
van haar stoel. “Ek vrek om jou hotelmagnaat te ontmoet.”
“Agtergebly in Amerika. Ons is nie meer verloof nie.”
“Bad luck vir hom. En met drie verlowings wat jy verbreek het, verdien jy
seker nie simpatie nie. Ek wil nog die man ontmoet wat jou sover gaan kry
om te trou.” Anja staan op. “Wag, ek gaan haal gou vir ons iets om te drink.”
Kylie probeer om nie seergemaak te voel nie, sy weet Anja se opmerking
is nie kwetsend bedoel nie. Sy sug en sit agteroor terwyl haar oë oor die
vertrek dwaal. Drie verlowings? Niemand kan dit ’n verlowing noem as jy
die ring nooit langer as ’n week dra nie. Die eerste twee skryf sy aan die
impulsiwiteit van haar studentejare toe. Net die een met Jonathan was regtig
’n verlowing. Mense dink seker sy is wispelturig. Dis net, sy het hierdie
neiging om vinnig verloof te raak en haar besluit vinniger te berou. Waarom,
weet sy nie regtig nie.
Sy sug weer. Dis gedane sake. Nou wil sy al haar aandag op haar pa se
maatskappy toespits. Sy gaan nie nog tyd mors met verhoudings wat tog nie
uitwerk nie.
’n Beweging in die tuin trek haar aandag. Die tuinier dra ’n kompossak na
die blombak. Met ’n skuldige blik in die rigting van die kombuis stap sy na
die venster.
Sy kan nie anders as om hom dop te hou nie. Enige normale vrou sou die
prentjie waardeer. Hy buk om die sak op die gras neer te sit en met elke
beweging rimpel sy spiere onder sy blink vel. Die mans in haar lewe was
behoorlike bleeksiele, hul uitsonderlike intelligensie het haar by uitstek
gefassineer. Sy is amper oortuig daarvan die man kan oor niks anders as
kompos en bossies praat nie. Maar dan, wie wil tyd mors met praat as jy so ’n
dekadensie voor jou het?
Kylie skud haar kop verdwaas. Waar het daardie belaglike gedagte
vandaan gekom? ’n Gedagte so absoluut teen haar aard.
“Is hy nie hot nie?” Kylie swaai vinnig om toe Anja die versugting agter
haar uitspreek. Dan word sy nog betrap terwyl sy die man beloer! Die hemele
behoed haar! En wat bedoel haar jong sussie met daardie opmerking?
Kylie gryp een van die glase op die skinkbord en sluk die sap gulsig. Anja
staar nog gefassineer na buite.
“Is hier ’n kamer vir my?” vra sy kortaf.
Anja draai verbaas na haar. “Natuurlik. Pappa sal niemand naby jou kamer
toelaat nie. Wil jy ’n bietjie voor die partytjie ontspan? Jy is seker uitgeput ná
die lang reis.”
“Nogal. Ek en jy gaan nog baie tyd vir kuier kry.”
Anja knik instemmend en haar gesig helder weer op. “Ek het ’n bakgat
idee. Hoekom bly jy nie in jou kamer en verras Pappa by die partytjie nie?”
Kylie oorweeg die voorstel. “Klink oukei. Ek gaan in elk geval nie kans
kry om voor die tyd saam met hom te kuier nie. Kom my ma ook?”
“Ja, Pappa het al sy eksvroue genooi. Elnette was nie baie opgewonde
daaroor nie. Sy hou nie van kompetisie nie en jou ma is geneig om haar te
oorskadu. Ek wonder wat gaan sy sê as sy agterkom die ander skoonheid van
die familie is ook hier.”
Kylie frons. “Verwag jy jou ma ook? As ek reg onthou, bly sy deesdae in
Kaapstad.”
“Ja, sy kom spesiaal deur vir die geleentheid. Net Cecile is onopspoorbaar.
Lyk my vrou nommer twee het van die aardbol af verdwyn.” Anja giggel
geamuseerd. “Maar ek praat nie van my ma nie. Jy is die ander skoonheid in
die familie.”
Kylie lag ongemaklik. Sy is so gewoond daaraan om soos ’n
onderontwikkelde negatief in haar ma, die eertydse skoonheidskoningin, se
teenwoordigheid te voel dat sy nie anders kan as om Anja se opmerking
vreemd te vind nie.
Anja stap na die ingangsportaal en Kylie volg haar. “Ek moet haarkapper
toe. Sal jy oukei wees? Ek het die butler gevra om jou tasse in jou kamer te
sit.”
Kylie stel haar gerus. “Gaan jy jou gang. Ek sal jou later sien.”
Toe Anja buite sig is, stap Kylie die trappe op na haar kamer op die
boonste verdieping.
Ten minste bly sekere dinge dieselfde, is haar dankbare gedagte toe sy by
haar ou slaapkamer instap. Die bed met sy geel beddegoed en bypassende
gordyne lyk presies soos sy dit agterlaat het.
Sy kyk na haar boekrak. Die rakke is vol boeke oor meganika en ontwerp
en word net hier en daar deur ou skoolboeke afgewissel. Haar uitstalrak is vol
medaljes en bekers. Op skool en universiteit het sy elke moontlike
akademiese toekenning ontvang. Selfs die prototipe van haar eerste patent
wat sy op vyftienjarige ouderdom geregistreer het, staan nog daar. Daardie
dag was haar pa besonder trots op haar.
Sy het die tyd as dosent in Michigan geniet en die ingenieursprojekte
waarvan sy in Asië deel was, was avontuurlik, maar nou is sy terug om
wortel te skiet. Hier hoort sy, by haar familie.
Sy val op haar bed neer en kyk na haar bagasie op die vloer. Sy moet seker
uitpak en kyk of daar ’n gepaste aandrok vir die geleentheid is. Sy sal inval
by Anja se verrassing en die tyd gebruik om van haar vlugvoosheid te herstel.

Die foon in haar kamer lui net toe sy haar hare klaar gevleg het.
“Kylie, ek is hier in Pappa se studeerkamer. Jy kan maar afkom, al die
gaste is hier.”
“Ek is binne vyf minute daar.”
“Ek het vir Pappa gesê ek het ’n wonderlike geskenk vir hom. Hy is nou so
nuuskierig, hy kan sterf.”
Kylie glimlag en sit die foon neer. Haar pa is gewoonlik ongelooflik
nuuskierig en sal aan Anja karring totdat sy met die sogenaamde geskenk
vorendag kom.
Sy kyk vir oulaas in die spieël. ’n Vlegsel is nie geskik vir so ’n
geleentheid nie, kan sy omtrent haar ma se berisping hoor, maar sonder haar
haarkapper kan sy nie die wilde bos tem nie. Haar rok, ’n kort, klassieke
swart Donna Karan-nommertjie in sagte sy met ’n lae rug en hoë hals kon sy
nog altyd met gemak na enige formele geleentheid dra. Daarmee sal selfs
haar puntenerige ma nie foutvind nie. Haar blou oë, swaar geaksentueer,
blink opgewonde. Vanaand is haar pa se vreugde oor haar terugkoms vir haar
die belangrikste.
Sy huiwer aan die bopunt van die trappe. Gaste staan onder rond, maar
nêrens sien sy ’n bekende gesig nie.
Halfpad ondertoe trap sy amper die volgende trappie mis. Sy gryp net
betyds na die swaar reling.
Die tuinier staan aan die onderpunt van die trappe. Sy kan nie dink dat hy
vir háár wag nie. Sy vermoed ook hy het haar reaksie op sy teenwoordigheid
gesien, vandaar die glimlag. Hy lyk anders, amper vreemd, in sy swart
aandpak met sy hare netjies teruggekam. Sy het hom nie dadelik herken nie,
totdat sy in sy groen oë gekyk het.
Sy teenwoordigheid verbaas haar nie. Haar pa diskrimineer nooit in sy
uitnodigings nie, maar sy vorige tuinier was nooit so aanmatigend om dit te
aanvaar nie.
En wat vind hy steeds so vermaaklik? Sy huiwer nie langer nie. Haar ken
word strydlustig opgelig terwyl sy die laaste trappe afstap. In Amerika het sy
selfs ’n geselligheid bygewoon waar die president teenwoordig was. Dit het
haar nie ontsenu nie, hoekom sal hierdie handearbeider haar selfvertroue
ondermyn? Nog nooit gesien nie!
Sy gaan staan op die laaste trappie, kophoogte met hom. Haar neus-in-die-
lug-houding kry hom nie uit haar pad nie.
“Verskoon my, asseblief?” Haar stem is kil.
Hy skud sy kop. “Nie sonder ’n bekendstelling nie. Ek het nie vanmiddag
kans gekry om my voor te stel nie. Alex du Preez.”
Hy steek sy hand uit. Sy hand is grof teen hare en voordat sy kan keer,
bring hy haar hand tot by sy lippe en streel saggies oor die rugkant. Hitte bly
agter waar sy lippe raak. Sy ruk haar hand weg.
Haar reaksie ontmoedig hom nie. Weer steek hy sy hand uit, vou dit om
haar vlegsel en laat dit stadig deur sy vingers gly. Sy oë volg sy
handbeweging en hy mymer saggies, sy stem laag en intens: “Jou hare is net
so sag soos ek gedroom het. Ek kan nie wag om te sien wanneer dit los oor
jou skouers hang nie.”
Geskok staar sy na hom, maar het geen krag in haar ledemate om weg te
stap nie. Hoe kan hy so familiêr wees? Weet hy nie wie sy is nie?
Anja roep haar uit die gang en verdwaas draai sy om.
“Wat doen julle?” vra Anja toe sy naderstap.
“Ek leer jou suster net beter ken.”
“Daar is nie nou tyd daarvoor nie. Ons moet my pa gaan verras. Sal jy ons
verskoon?”
Voordat Kylie Anja kan volg, hou hy haar terug met ’n hand op haar
skouer. “Ons praat later weer,” verseker hy haar. Sy knik verdwaas en staar
na hom oor haar skouer terwyl sy ’n ongeduldige Anja volg.
Sy sien haar pa dadelik raak waar hy tussen ’n groep vriende aan die
oorkant van die vertrek staan. Voordat hulle in sy rigting kan stap, vat sy
beste vriend die mikrofoon en begin met ’n toespraak.
Hulle gaan staan en Kylie neem haar kans waar om haar pa te bestudeer.
Hy is ’n aantreklike man met sy kort, grys hare en helderblou oë. As sy eerlik
moet wees, het sy seker die meeste na hom verlang. Hul kortstondige
kuiertjies oor en weer was nooit genoeg om die verlange te keer nie.
Sy beskou hom krities. Iets lyk anders. Dan tref dit haar skielik – hy lyk
oud en moeg. Die gedagte hinder haar. So wil sy hom nie sien nie. As dit sy
werklas is, is haar tydsberekening reg. Sy is nou hier om sy
verantwoordelikhede oor te neem.
Sy kyk na die mense langs hom. Waar is Elnette? Sy behoort haar te
herken, want die troufoto’s is nog vars in haar geheue.
Sy sien ’n beweging agter haar pa. Alex kom te voorskyn. Hy moes
kortpad deur die skuifdeure gekies het. Twee vroue gaan staan langs hom.
Die bruinkop haak by hom in, maar dis die donkerkop aan sy ander kant wat
haar aandag hou. Sy lyk bekend. Is dit nie Elnette nie? Die vrou fluister iets
in Alex se oor en hulle glimlag vir mekaar. Dis duidelik dat die twee mekaar
goed ken, dalk te goed ken? Kylie kyk weg. Sy mag nie afleidings maak nie.
Dis nie regverdig teenoor haar pa of sy nuwe vrou nie, as dit Elnette is.
Die gaste klap hande en haar pa neem die mikrofoon. Hy begin met ’n
grappie oor ’n ou man en sy jong vrou. Die gaste lag. Hy bedank almal vir
hul teenwoordigheid en spesifiek sy familie, dan gaan hy voort: “Al waaroor
ek vanaand spyt is, is oor my dogter Kylie wat nie hier is nie ...” Kylie vries.
Is dit die oomblik wanneer sy haar teenwoordigheid moet bekend maak?
Anja kyk na haar en beduie iets. Sy bly staan.
“Soos julle almal seker weet en indien julle vergeet het, moet ek julle weer
oor haar prestasies inlig.” Die gaste lag. “Sy doseer steeds aan die
Universiteit van Michigan waar sy ’n professor in siviele ingenieurswese is.
Sy het ook ’n paar weke gelede aan ’n Amerikaanse hotelmagnaat verloof
geraak en ek en Elnette beoog om voor die einde van die jaar daar te gaan
kuier om my aanstaande skoonseun te ontmoet.”
Hy maak keelskoon voordat hy voortgaan: “Ek het ’n ander stukkie
belangrike nuus wat ek ook vanaand aan julle wil oordra. Ek het vandag
amptelik afgetree en het ’n nuwe besturende direkteur vir my maatskappy
aangestel. Alex, staan nader ...” Hy steek sy hand uit en Kylie sien verdwaas
hoe Alex in die uitgestrekte arm inbeweeg. “Hierdie man het in die laaste
paar maande dat hy aan my sy gewerk het, soos die seun geword wat ek nooit
gehad het nie, daarom weet ek ek kan met groot vertroue my maatskappy in
sy hande los.”
Die gaste klap hande. Alles stol in Kylie. Sy kan net haar hartklop hoor
wat oorverdowend in haar kop tamboer. Wat gaan hier aan? Hoor sy reg? Die
tuinier word die besturende direkteur van een van die grootste
konstruksiemaatskappye in die stad? Onmoontlik! Sulke sprokies gebeur nie
in die werklikheid nie. Haar pa sal nooit ’n onbekwame persoon in sy diens
aanstel nie. Die tuinier is dus nie wat hy voorgegee het om te wees nie, of, as
sy eerlik moet wees, wat sy gedink het hy is nie. Wie is hy en waar kom hy
vandaan? Sy het nog nooit vantevore sy naam gehoor nie. Hoe het hy hom so
vinnig in so ’n hoë pos ingewerk?
Trane van woede brand haar oë. En wat van haar? Niemand is meer
bekwaam vir daardie pos nie. Niemand anders is vir daardie pos bestem nie!
“Ek weet hy sal ...” Haar pa se oë dwaal oor die gehoor, beweeg oor haar en
kom vinnig terug. Hulle kyk mekaar vas in die oë. Hy bly stil en sy kan
herkenning, dan verbasing en vreugde op sy gesig lees. Van die gaste draai
om om te sien waarna hy staar.
Niemand gaan haar teleurstelling en vernedering aanskou nie, besluit sy.
Sy glip by die naaste skuifdeur uit.
Die heining dwing haar tot stilstand. Sy adem die vars lug diep in haar
longe in. Die kloustrofobiese gevoel verdwyn, maar nie die pyn nie. Sy slaan
met gebalde vuiste teen die muur. Die donkerte vou veilig om haar. Hier kan
niemand haar pyn sien nie.
Die gebeure maak nie sin nie. Hoe kan hy dit aan haar doen? Hy het
belowe! Haar hande is koud teen haar wange. Sy sukkel om die snik te
onderdruk.
Twee
Sy word bewus van ’n beweging agter haar. Haar pa se groot hande vou
saggies om haar bewende skouers. Hoeveel keer het sy daardie beskermende
hande op haar skouers gevoel? Maar vir die eerste keer is dit nie vertroostend
nie.
“Hoekom, Pappa?” fluister sy. “Hoekom het jy my werk vir iemand anders
gegee?”
“Ek moes ’n besluit neem, want ek wou nie my aftrede uitstel nie. Jy was
nie hier nie en daarom kon ek jou nie oorweeg nie.”
Sy draai om. Sy oë, dieselfde intense blou soos sy dogters s’n, weifel nie
voor haar verwytende kyk nie.
“Hoekom het jy my nie gebel nie? Net een oproep, dis al wat nodig was.”
Hy skud sy kop. “Jy weet nie van my worstelstryd die laaste paar maande
nie. Alex was hier toe ek hom nodig gehad het. Jy het ’n nuwe lewe daar
anderkant begin. Jy wil met ’n Amerikaner trou. Dink jy regtig hy sal alles
vir jou los en hom hier kom vestig?”
Sy kyk af. “Ons is nie meer verloof nie.”
“Ek is jammer. Jy het ons nooit laat weet nie.”
“Ek wou julle met my terugkoms verras, daarom het ek niks gesê nie.”
“Dit verander ongelukkig nie my besluit nie. Alex is nou die regte man vir
die pos.”
“En wat van my? Pappa het belowe.” Kylie weet sy klink soos ’n bedorwe
brokkie, maar sy kan nie die woorde keer nie.
Hy frons en sy stem styg. “Jy is al ses jaar uit my huis, Kylie. Ek het nie ’n
oomblik getwyfel of jy jou werk en die projekte wat jou regoor die wêreld
neem geniet nie. Ons het jou nou en dan vir ’n paar weke gesien en dan het jy
weer teruggevlieg. Toe raak jy verloof. Al afleiding wat ek kon maak, is dat
jy daar wil bly. Ek sou dit nooit oorweeg het om ’n emosionele verpligting op
jou te plaas deur te verwag dat jy net om my onthalwe terugkeer nie. So
selfsugtig is ek nie.”
“Ek verstaan.” Kylie vou haar arms om haar lyf, sy kry skielik baie koud.
Sy staar die donker in oor sy skouer. “Daar is seker niks verder om te sê nie.
Is Mammie hier?”
Hy vou sy hande om haar gesig. Lank staar hulle woordeloos na mekaar.
“Moet tog asseblief net nie jou hardkoppige self wees en teruggaan Amerika
toe nie. My maatskappy kan jou met gemak akkommodeer. Sê net wanneer
en ons skep vir jou ’n pos.”
Sy antwoord nie. Sy stel regtig nie in aalmoese belang nie. Dis óf die pos
as besturende direkteur óf niks. Sy het net nie nou die energie om dit aan haar
pa te probeer verduidelik nie.
Hy sug. “Jou ma wag in jou kamer. Eet môreoggend saam met my ontbyt.
Almal hier slaap laat, ons sal nie gesteur word nie. Ná ’n goeie nagrus sal
sake beter lyk, ek verseker jou.” Hy glimlag pleitend, maar sy stap net by
hom verby. Sy is nie nou gereed vir sy vredesgebaar nie. Sy is te na gekom
en dit gaan ’n ruk neem om die gedagte te verwerk.
Toe sy in haar kamer kom, stap sy in die oop arms van haar ma in.
Engelette hou haar lank vas. Woorde is oorbodig.
Kylie kyk vraend na haar ma. “Hoekom het Pappa dit gedoen? Niemand
weet beter as hy dat ek beplan het om eendag by hom oor te neem nie.”
“Ek verstaan dit ook nie. Jou pa se optrede is deesdae vreemd. Ek dink hy
het net nie meer die energie vir die besigheid nie en het die geleentheid
aangegryp om van daardie verantwoordelikheid ontslae te raak. Waarom hy
juis vir Alex aangestel het, weet ek nie.” Engelette haal haar skouers op. “Ek
wil jou nie so vinnig met my bekommernisse belas nie, maar ek dink daar is
ook probleme in sy huwelik.”
Kylie val haar in die rede. “Hoekom het Mamma my nie vroeër daarvan
gesê nie?”
“Jou lewe is nou in Amerika by jou verloofde, en juis daarom kan ek in ’n
mate jou pa se besluit verstaan.”
Sy kan niemand anders as haarself blameer nie, besef Kylie. Sy het te veel
dinge as vanselfsprekend aanvaar. Sy kan nie stry nie, het sy met Jonathan
getrou, sou sy daar gebly het. Sy het net nooit sover gedink nie. Hoe dom is
sy nie partykeer nie!
“Ek is nie meer verloof nie.”
Haar ma lyk nie verbaas nie, skud net haar kop. “Wat gaan jy nou doen?”
Kylie maak haar los uit die omhelsing. “Ek weet nie.” Sy sug moedeloos.
“Ek moet nog besluit. Dinge het nou te vinnig gebeur. Hier sal baie ander
werkmoontlikhede wees, daaroor twyfel ek nie.” Sy kyk op in haar ma se
bekommerde oë. “Ek lees hier is ’n ernstige tekort aan ingenieurs in die
land.”
“Miskien moet jy jou pa oortuig om vir jou ’n ander pos in sy maatskappy
te gee.”
Kylie skud haar kop botweg. “Vergeet maar daardie idee, Mamma. Hy het
reeds aangebied en ek stel nie belang nie.”
“Wag, luister eers. Dit gaan nie soseer om die werk nie. Die ding is, ek
vertrou Alex nie. Hy het net te skielik sy verskyning gemaak en onmiddellik
jou pa se maatskappy oorgeneem. En dis nie al nie, ek het ’n vermoede daar
is iets tussen hom en Elnette. Hulle is net te gemaklik met mekaar en te veel
in mekaar se geselskap. Daar is stories wat rondlê. Jy ken my as iemand wat
my nie aan allerhande skinderstories steur nie, maar nogtans ... jy is dalk die
enigste een wat presies kan bepaal of hy met iets onderduims besig is of nie.”
Kylie frons. Hoekom moet haar ma haar dit nou vertel? Sy moet op haar
eie toekoms fokus, sy wil nie nog haar pa se probleme uitpluis nie. “Dink
Mamma Pappa is besig om seniel te raak?”
Engelette lag. “Nee wat, daardie brein is nog vlymskerp.” Engelette stap
deur toe. “Dink maar oor wat ek gesê het. Ek moet loop, Chris wag vir my. Jy
onthou hom nog?”
Kylie knik. Sal sy hom ooit vergeet? Haar ma se tweede man was bitter
jaloers op haar verhouding met haar dogter en het die lewe vir Kylie moeilik
gemaak terwyl sy by hulle gebly het. Op die ou end het sy by haar pa kom
bly. Die huwelik het ook nie baie lank daarna gehou nie.
“Ons is weer saam.”
“Ek is bly. Ek sal probeer om nie weer dinge vir julle moeilik te maak nie.”
Haar ma frons. “Nou is jy verspot! Jy was nie die enigste rede waarom
dinge tussen ons nie uitgewerk het nie en Chris sal jou nou aanvaar, daarvan
is ek oortuig. Ons het almal intussen darem ’n bietjie grootgeword. Ek
verwag van jou om so gou moontlik te kom kuier. Ons het baie om oor te
gesels.”
Vir die eerste keer neem sy haar ma se voorkoms ten volle in. Geklee in ’n
lang, bloedrooi rok wat haar slank lyf pragtig beklemtoon, en met haar kort,
blonde hare in ’n modieuse kapsel gesny, is sy pragtiger as ooit. ’n Warm
gloed vou om haar hart by die gedagte dat hierdie beeldskone en hoogs
intelligente vrou haar ma is. Ondanks alles is sy bly om terug te wees. Saam
vorm haar ouers die essensie van alles wat sy is.
“Definitief en dankie, Mamma.” Sy weet sy hoef nie meer te sê nie.
“Ek is bly jy is terug.”

Kylie draai op haar ander sy. Buite haar venster hoor sy die bekende gesing
van die tortelduiwe. Sy sit regop in haar bed en loer na die wekker.
Net ná ses. Sy het heelnag ’n stoeigeveg met haar beddegoed gehad en sy
weet nie wie gewen het nie. Al wat sy wel weet, is sy’s gedaan.
Haar pa eet elke oggend om halfsewe ontbyt. Sy wonder of sy met haar
wrewelige self by hom moet aansluit. Haar selfvertroue het verkrummel en
bekwame ingenieur wat sy is, weet sy nie hoe om dit te herstel nie. Met ’n
paar woorde is alles waarvoor sy gewerk het van haar weggeneem en aan
iemand anders oorhandig en sy sukkel steeds om die implikasies te verwerk.
As sy eerlik is, het sy seker ’n groot aandeel in hierdie fiasko. Sy het die
verkeerde boodskap uitgestuur deur aan ’n Amerikaner verloof te raak. Die
gedagte maak die bitter pil nie makliker om te sluk nie. Wat die meeste in
haar keel vassteek, is dat daardie arrogante man alles waarvoor sy jare lank
werk, op ’n skinkbord kry. Wat het hy gedoen om dit te verdien, behalwe om
haar pa te ondersteun en dan klaarblyklik terselfdertyd by sy vrou aan te lê?
Boonop rig hy nog ongevraagde attensies op die dogter ook! Wat dink hy kan
hy daarmee bereik? Sy is nie so manipuleerbaar soos haar pa nie.
Kylie kners op haar tande. Om te verloor aanvaar ’n Visser nie sommer
gelate nie. Terwyl haar pa siende blind is, moet dit seker haar doel word om
sy oë te laat oopgaan. Sy is dit aan haar familie en aan haarself verskuldig.
Sy stap na haar badkamer toe en spoel haar gesig met koue water af. Haar
spieëlbeeld is nie baie vleiend nie – haar blou oë is vaal en geswolle met
donker kringe om. Die nag se stryd wys op haar gesig, maar sy voel hoe
opwinding deur haar spoel en kleur in haar wange bring. Sy floreer op
uitdagings en ’n goeie plek om haar jongste projek te begin, is aan die
ontbyttafel. Haar pa is gewoonlik in ’n ontvanklike bui wanneer hy langs die
etenstafel sit.
Hy is reeds besig met ontbyt toe sy die eetkamer binnestap. Geen tekens
van die vorige aand se geselligheid is in die ruim vertrek met sy
twaalfsitplek-eetkamerstel sigbaar nie.
“My meisiekind, ek is bly jy sluit by my aan. Sit.” Hy beduie na die stoel
langs hom. “Ek kon nie vir ’n beter verjaardaggeskenk vra met jou onder my
dak nie. Is jy vir goed terug?”
“Miskien.” Kylie weet haar ontwykende antwoord sal haar pa nie tevrede
stel nie, maar haar planne bly in dié stadium haar geheim, veral omdat sy nie
self weet wat die toekoms nou vir haar inhou nie.
Haar pa glimlag suur. “Is jy nog kwaad vir my?”
Kylie haal net haar skouers op.
“Wat kan ek vir jou inskep?”
“Ek sal sommer self kry, dankie, Pappa.” Kylie sit ’n snytjie roosterbrood
op die bord voor haar en reik na die marmelade.
“Vertel my, wat het verkeerd geloop dat jy jou verlowing verbreek het?”
Kylie sug. Dis nie regtig die onderwerp waarmee sy die oggend wil begin
nie. “Dit was maar net ’n sameloop van omstandighede. Ná ons verlowing
het ek te veel tyd in Asië deurgebring. Hy het afgeskeep gevoel en toe ek
terugkom, betrap ek hom saam met iemand anders in die bed. Ondanks sy
pleidooie het ek nie kans gesien om met die verhouding voort te gaan nie.
Daar is seker baie foute wat ek bereid is om in die man wat ek liefhet te
verduur, maar ontrouheid is nie een daarvan nie.” Sy skink vir haar koffie
voordat sy voortgaan. “Ek moet erken, ek het hom ook in ’n mate gebruik. Ek
het gedroom oor die bouprojekte wat ek deur sy hotelryk kon aanpak, op ’n
groter grondslag as enigiets hier. Vir my as siviele ingenieur was die gedagte
utopies. Ongelukkig het ek nie genoeg aandag gegee aan die man daaragter
nie. En daarom is ek nou terug.”
Haar pa sit vorentoe. Daar is ’n dringendheid in sy stem. “Ek is jammer dit
het nie uitgewerk nie, maar ek is bly jy is terug. Ons moet oor die toekoms
praat. Gister was ons emosioneel, maar hopelik kan ons nou logies na die
situasie kyk. Ek het jou in my maatskappy nodig.”
“Maar nie so nodig soos Pappa vir Alex het nie.” Die nydige opmerking is
uit voordat sy dit kan keer. Dis net moeilik om te aanvaar dat haar groot
droom nie gaan realiseer nie.
Haar pa sug en sit sy eetgerei neer. “Kylie, jy ken my beter as die meeste
mense. Jy weet as ek ’n besluit geneem het, bly ek daarby, en nie eens jy sal
my van plan laat verander nie. Is dit te veel gevra om te verwag dat jy my
besluite sal respekteer en dat ons ons nou net op jou rol hier kan toespits?”
Kylie skink koffie terwyl sy sy woorde oordink. Sy wens dit was so
eenvoudig, maar aan die ander kant weet sy sy gaan niks bereik as sy haar
bitterheid heeltyd opdiep nie. Sy sal net haar pa kwaad maak, en sy moet hom
aan haar kant kry as sy wil agterkom wie Alex regtig is. Sy kyk op. “Wat stel
Pappa voor?”
“Ek het gisteraand met Alex gepraat. Hy is net so opgewonde soos ek om
jou in die maatskappy ...” Hy hou op praat en kyk in die rigting van die deur.
“Alex, hier is jy. Ons praat nou net van jou.”
As sy nie geweet het dis anatomies onmoontlik nie, sou sy sweer haar
bloed stol in haar lyf. Sy volg haar pa se blik. Hy staan in die deur, geklee in
’n T-hemp en jeans. Haar mond word droog en sy draai haastig haar kop weg
voordat sy betrap word dat sy staar. Sy wonder hoeveel van die gesprek hy
gehoor het.
Vies kyk sy na haar pa. “Wat doen hy hier?”
“Kylie, jou maniere, asseblief?” Sy herken daardie stemtoon. Dit het
gewoonlik beteken dat sy ’n paar naweke gehok sal word as sy nie versigtig
is nie. “Alex bly ook hier en ek het hom genooi. Ons moet almal saam besluit
oor watter verantwoordelikhede ons aan jou kan oordra.”
Verdwaas staar sy na haar pa. Die man bly hier! Sy sou dit nie geglo het as
sy dit nie uit haar pa se mond gehoor het nie. Hoe kon hy in so ’n kort
tydperk die man soveel vryhede toelaat? Dit lyk nie asof haar pa ’n idee het
watter stories rondlê nie. Haar arme, naïewe pa. Die man neem sy huis, sy
vrou en sy werk oor, en hy laat alles toe.
Sy kom orent. “Ek is nie meer dertien nie, Pappa, en daarom kan ek self
besluit saam met wie ek aan etenstafel wil sit. Verskoon my, asseblief, ek is
nie meer honger nie.”
Sy word nie toegelaat om die vertrek te verlaat nie, want sy lang lyf
blokkeer die enigste uitgang. Sy gaan staan reg voor hom en trek ’n
wenkbrou vraend op. Mans is meestal ongemaklik wanneer sy op hulle
neerkyk en gee gewoonlik pad, maar in hierdie geval konfronteer sy iemand
wat langer as sy is en die effek gaan verlore. Hy bly staan, ’n spottende
kuiltjieglimlag op sy gesig. Voordat sy hom iets kan toesnou oor kinderagtige
speletjies, tree hy weg.
Sy stap verby hom en kyk nie om voordat sy die veiligheid van haar
slaapkamer bereik het nie.
Sy hoor ’n beweging agter haar, maar hou haar rug na die deur. Sy wil nie
nou met haar pa praat nie.
“Kylie ...” Alex se heserige stem laat haar naam soos strelende musiek
klink. Sy byt benoud op haar lip en draai stadig om.
Hy leun teen die deur met sy hande in sy sakke. Sy kop raak amper aan die
boonste deel van die kosyn en sy voel meteens klein en veral bang, bang vir
die fisieke uitwerking wat die man op haar het. Die uitdrukking in sy oë is te
intens en sy informele benadering maak haar bewerig. Dan rebelleer haar
verstand teen sy aanslag. Hoe kan hy so vermetel wees om haar kamer
ongenooi te betree? Wat gisteraand gebeur het, is verby en hy is nie welkom
in haar persoonlike ruimte nie.
“Wat doen jy hier?” Haar stem is skor.
Hy stap nader. “Ons moet praat. Jy kan nie vir my kwaad wees omdat ek
by jou pa oorneem nie, dit was sy besluit.”
Sy beskou hom minagtend. “Ja, en ek is seker jy het niks gedoen om jou
hier in te wurm nie. Jy beter net vinnig besef jy is nie welkom in my kamer
nie. Jy mag toegang tot my pa én sy vrou hê, maar dit sluit nie al die
slaapkamers in hierdie huis in nie.”
Sy oë vernou en hy staar haar ’n oomblik ondersoekend aan, dan vertrek sy
lippe in ’n wrang glimlag en sy alewige kuiltjie verskyn. “Jy maak vreemde
aantygings vir iemand wat nou net hier aangeland het.”
’n Haarsliert val vorentoe en hy vee dit werktuiglik terug. Die beweging
hou haar aandag momenteel gevange. Sy sluk die grofheid in haar keel weg
en laat sak haar kop. Sy ken haarself nie so nie. Nog nooit was sy so
antagonisties teenoor ’n mens en terselfdertyd so aangetrokke tot hom nie.
Haar verhouding met Jonathan en haar vorige twee verloofdes was die
rustigheid self. Wat is fout met haar?
Hy verbreek die swaar stilte. “Kylie, ek is regtig jammer oor ...”
Sy val hom woes in die rede. Haar logika waarsku haar dat sy hom op ’n
afstand moet hou, anders het sy die stryd verloor nog voordat sy aangeval het.
“Juffrou Visser, asseblief?” snip sy. “Ek kan nie onthou dat ek jou
toestemming gegee het om my op my naam te noem nie.”
“Ek sien. Sou jy dalk professor Visser verkies?” Sy sarkasme ontgaan haar
nie. Sy antwoord egter nie dadelik nie. Haar gedagtes en gewaarwordinge
maak haar lomp. Sy wil hom verkieslik so gou moontlik uit haar
teenwoordigheid kry. Sy weet nie wat besig is om hier te gebeur nie en sy
kan nie bekostig om vas te stel nie, maar een ding is seker: hy is haar
opponent.
“Dit maak nie saak nie, solank jy onthou dat net my vriende my op my
voornaam mag aanspreek.” Sy draai om. “Ek dink ons het klaar gepraat, ek
wil uitpak.”
Sy wag om sy voetstappe te hoor, maar net die getik van haar wekker en
haar onreëlmatige hartslag is hoorbaar.
“Ek verstaan.” Sy stem is saaklik. “Ons hou dit formeel. Soos Karel gesê
het, as jy belang stel, daar is werk vir jou in die maatskappy. Ons kan jou
ervaring gebruik.”
Lank nadat hy weg is, staar sy voor haar uit. Sy is dankbaar vir die
kleinlike oorwinning. Hopelik kan sy daarop voortbou. Haar hart het nog
nooit aan haar kop voorgeskryf nie.
Kylie bestee die res van die dag om haar klere uit te pak. Sy het gou
agtergekom dat Alex in die tuinwoonstel agter die huis bly. Die kere dat hulle
mekaar sal raakloop, is hopelik min en dit verskaf ’n mate van gemoedsrus.
Met die vet salaris wat hy moet verdien, kan sy glad nie verstaan waarom hy
nie sy eie blyplek kan kry nie, maar los die gedagte daar. Daar is genoeg
negatiewe aspekte wat sy moet verwerk, dis onnodig om nog meer by te
voeg.
Laatmiddag stap sy na die grondverdieping op soek na geselskap. Niemand
is in sig nie. Teleurgesteld stap sy deur die skuifdeure na buite.
Sy kan nie glo net een dag is verby nie. Dit voel asof sy al ’n leeftyd terug
is. Hoe anders het sy nie haar terugkoms voorgestel nie, en wat het sy sover
ervaar? Teleurstelling op teleurstelling.
Sy moes met haar terugkoms gewag het. As sy nog in Amerika was en van
haar pa se besluit gehoor het, kon sy ’n nuwe rigting ingeslaan het. Miskien
met Jonathan versoen geraak het en haar vrees vir verbintenis, soos Jonathan
dit noem, oorwin het. Dalk is sy naïef as sy algehele trou in ’n verhouding
verwag. Nêrens het sy dit nog gesien nie, veral nie in haar ouerhuise nie.
Hoekom moet dit in haar geval anders wees? Sy beoog nie om die res van
haar lewe alleen te wees nie. Sy moet dalk net aanvaar dat enige huwelik
seker leemtes het en dat ’n paartjie dubbele mure daarom moet bou sodat die
huis nie inkalwe nie.
’n Lae muurtjie aan die agterkant van die huis bring haar tot stilstand. Dit
skei die hoofhuis van die tweeslaapkamerwoonstel wat jare gelede vir haar
ouma gebou is wat intussen oorlede is. Hiervandaan kan sy die woonstel
duidelik sien.
Twee motors, ’n Porsche en ’n klein Uno, is voor die voordeur geparkeer.
Verbaas staar sy na die luuksemotor. Die behoort seker aan hom! Hy kan nie
sy eie huis bekostig nie, maar dié statussimbole skaf hy vinnig aan. Sy ken sy
soort, mans wat hul viriliteit deur hul duur motors en die hoeveelheid vroue
aan hul sy wil bewys.
Kylie wring haar hande saam. Sy moet haar wilde gedagtes in bedwang
kry. Sy is sinies en bitter en buitengewoon behep met die man. Sy moet
herfokus.
Net toe sy wil omdraai, sien sy uit die hoek van haar oog ’n beweging deur
die oop venster. Alex en sy vriendin van die vorige aand staan op en stap na
buite.
Sy beweeg agter ’n boomstam in waar sy steeds kan sien hoe hulle op die
swaaibank op die stoep gaan sit. Die meisie nestel in sy arms en lig haar kop
op, ’n duidelike uitnodiging aan hom om haar te soen. Kylie knyp haar oë
toe. Sy is ernstig aan die agteruitgaan, maar hopelik het sy nog nie so laag
gedaal om loervink te speel nie. Lank staan sy daar, haar arms om haar lyf
gevou, haar oë toe. Sy dwing die prentjie wat in haar kop vorm, uit haar
gedagtes. Hoe op aarde kan sy wens dat sy die een is wat haar in daardie
omhelsing bevind?
Toe sy ’n motor hoor, strompel sy sonder om om te kyk na die hoofhuis
toe.
Drie
Kylie gooi vinnig ’n rok oor haar kop en haar hande vlieg deur haar hare om
dit te vleg. Sy is laat vir ete. Sy het ná middagete ingesluimer, maar haar pa
sal dit steeds nie as ’n geldige verskoning aanvaar nie. Daar is baie sondes
wat haar pa ignoreer, maar hy het min geduld met laatkommers, veral as hy
gaste onthaal. Sy hardloop met die trappe af, haal diep asem en stap die
eetkamer rustig binne. Almal sit al. Met ’n breë glimlag kyk sy na haar pa se
stormagtige gelaat. Hulle meet mekaar en dan ontspan hy en glimlag terug.
“Het jy Alex se metgesel, Laurika, ontmoet?” wil haar pa weet.
Teleurstelling verlam haar momenteel. Ag nee, tog nie aan etenstafel ook
nie! En sy was so honger! Sy draai teësinnig na die twee wat met die
bekendstelling orent kom. Kon hulle nie by hul woonstelletjie voor hul knus
swaaibankie ’n vleisie braai soos bywoners veronderstel is om te doen nie?
wonder sy ergerlik. Hopelik weet hulle hoe om die regte mes en vurk te
gebruik.
Onder haar pa se blik glimlag sy effens. Sy buig oor die tafel en skud die
meisie se hand. Vir Alex ignoreer sy. Sy let net terloops op dat sy vel
besonder donker vertoon teen die wit hemp wat hy aanhet en dat daar ’n
effense nat glans in sy hare is, asof hy pas gestort het.
“Wyn vir jou?”
Kylie knik op haar pa se versoek en die kelner staan onmiddellik nader met
die bottel rooiwyn. Sy gaan sit tussen Elnette en Anja. Die paartjie sit oorkant
haar.
Sy lig die kristalglas op en beskou die kleur, draai die glas voordat sy die
boeket inadem en drink dan ’n slukkie. “Uitstekende keuse. Pappa was nog
altyd ’n connoisseur en ek het vergeet hoe wonderlik ons Suid-Afrikaanse
wyne is. Hulle is amper onverkrygbaar in Michigan.”
Haar pa glimlag tevrede. “Sodra ons tyd het, wil ek jou my nuwe aankope
wys. Ek het die landgoedere leeggekoop met my laaste besoek aan die Wes-
Kaap.”
“Ek sal Pappa daaraan herinner.” Kylie kyk afsydig na Alex en glimlag
dan vriendelik vir Laurika. “En wat dink jy van die pinot noir, Laurika?”
’n Ongemaklike Laurika staar na die glas in haar hand voordat sy verleë
opkyk. “Ek is nie eintlik ’n wynkenner nie. Ek koop sommer bokswyn.”
Anja giggel. Kylie verberg haar glimlag toe sy haar pa se waarskuwende
blik na sy jongste dogter sien. Kylie weet hoekom Anja lag. Haar pa verwag
van sy gesin die basiese kennis van wyn en daarom is bokswyn in hierdie
huis ’n vloekwoord.
Laurika bloos en Kylie voel onmiddellik sleg. Alex se hand vou
vertroostend om Laurika s’n en haar simpatie verdwyn. Sy weet nie hoekom
die man se eenvoudigste optrede haar aanhoudend bly irriteer nie.
Die kelner bedien die sop.
“Karel sê jy is permanent terug.”
Kylie kyk verbaas na Elnette. Tot dusver het haar nuutste stiefma haar net
gegroet wanneer hulle mekaar iewers raakloop.
“Pappa is in dié stadium ’n bietjie ooroptimisties. Ek het nog nie finaal
besluit nie.”
Haar pa brom ontevrede. Kylie sit haar servet op haar skoot, tel die swaar
silwersoplepel op en neem ’n happie van haar sop. Sy word bewus daarvan
dat Laurika haar aksies dophou en dit dan naboots. Nog nooit was sy in ’n
situasie waar sy nie geweet het hoe om korrek op te tree nie en die meisie se
onsekerheid is vir haar vreemd. Die eerste keer toe sy ’n lepel kon vashou,
het sy reeds geweet watter een om te gebruik. Sy wonder oor die meisie se
agtergrond, maar voordat sy kan uitvra, praat Anja.
“Het jy lekker in Michigan gebly?”
“Baie. Ek het ’n pragtige woonstel op die universiteitsterrein gehad. Ek
was binne loopafstand van alles wat ek nodig gehad het. Ek het wonderlike
vriende gemaak en voordat ek kon verveeld raak, moes ek my rugsak pak en
my magisterstudente iewers in Asië vergesel om ’n ingenieursprojek af te
handel.”
“Dit klink so opwindend! Ek sal maklik so iets aanpak.” Anja kyk
beïndruk na Kylie.
Kylie glimlag. “Ná ’n paar jaar verloor jy jou lus vir afgeleë stadjies waar
jy op ’n harde vloer lêplek moet kry ná ’n harde dag se fisieke werk en nadat
jy weer eens vreemde kos moes eet.”
“En toe verruil jy jou slaapsak vir ’n penthouse in die Veeran-hotelgroep.”
Kylie lag oor Elnette se juiste opmerking. Haar stiefma is nogal op die
hoogte van haar lewe, maar soos sy haar pa ken, sal hy enigiemand wat wil
luister oor haar doen en late inlig. “Omtrent so iets. Ek het steeds klas gegee
en in Michigan gebly terwyl ek aan Jonathan verloof was. Hy wou gehad het
ek moet onmiddellik vir hom kom werk, maar ek wou eers wag totdat ons
getroud is voordat ek by sy maatskappy aansluit.”
“Waar het jy hom ontmoet?”
Kylie sit haar soplepel neer. “Hy was ’n donateur van die universiteit.”
“Is hy regtig ’n biljoenêr?”
Kylie haal haar skouers op. “Sover ek weet, ja. Hy was nie ’n man wat baie
oor sy rykdom gepraat het nie, ek weet wel hy het ’n hele aantal hotelle
besit.”
“Sy groep word onder die honderd topmaatskappye in Amerika gelys.
Hulle is selfs groter as die Hilton-groep.” Kylie kyk na Alex, maar hy kyk nie
eens na haar nie. Hoekom weet hy so baie van Jonathan af? Selfs meer as sy,
en hy kon dit tog nie by haar pa gehoor het nie. Sy wil hom vra, maar bly
liewer stil. Dit maak nie saak hoekom hy weet nie. “Wow!” Anja is nog meer
beïndruk. “Jy moet my eendag aan hom gaan voorstel.”
Kylie skud haar kop. “Vergeet daarvan! Hy is te oud vir jou. Hy is in sy
vroeë vyftigerjare.”
“Regtig?” Die res van Anja se opmerking verdwyn onder haar pa se
bulderende gelag.
Kylie staar hom agterdogtig aan. “Wat is so snaaks, Pappa?”
Hy druk sy servet teen sy lippe. “Dis interessante inligting wat jy my nooit
vertel het nie. Nou verstaan ek waarom hierdie verlowing verbreek is.”
“Wat bedoel Pappa?” Sy kan nie help om verontwaardig te voel nie.
Niemand weet beter as sy waarom sy die verlowing verbreek het nie.
“Ek ken jou soms beter as wat jy jouself ken. ’n Man van daardie
ouderdom sal nooit kan bybly nie. Kyk net na die lewe wat jy die afgelope
paar jaar gelei het! Jy spring uit vliegtuie, doen vlotvaarte, klim berge, en dis
net vir ontspanning. Boonop pak jy ’n rugsak om in een of ander
onbeduidende landjie damme te gaan bou. Jonathan het tien teen een ’n
verskoning gesoek om uit die verhouding te kom, want hy moes geweet het
hy sal nie kan byhou nie.”
“Met alle respek, Pappa, ek stem nie saam nie. Daar is geen rede waarom
sy ontrouheid verskoon moet word nie, maak nie saak wat Pappa se mening
oor die aard van ons verhouding is nie.” Sy kyk onwillekeurig na die man
oorkant haar. Sy wil nie haar privaat lewe voor vreemdelinge oopgevlek hê
nie.
“Miskien, en miskien nie. Ek het hierdie teorie oor jou.” Haar pa bly stil en
rol sy wynglas tussen sy vingers voordat hy ’n sluk neem. Kylie ken daardie
uitdrukking in sy oë. Hy dink nou baie diep.
Sy gee toe aan haar nuuskierigheid. “Wat is Pappa se teorie?”
“As die man in jou lewe nie van dieselfde uitdagings hou of nuwes bied
nie, sal jy nooit tot trou kom nie. Daarom hou jou verlowings nie.”
“Dis ’n hengse veralgemening.” Kylie voel genoop om te protesteer, sy
hou nie van die prentjie wat hy skep nie.
Elnette onderbreek hul argument. “Karel, kan ons die onderwerp verander?
Ons gaste is seker nie lus om heeltyd na julle twee se geredekawel te luister
nie.” Sy beduie vir die kelner om die hoofgereg te bedien.
Laurika verbreek die momentele stilte. “Ek dink die onderwerp is
verskriklik interessant. Ek verslind boeke oor presies watter tipe
persoonlikhede by mekaar sal pas en watter nie.”
“Ons hoor graag wat jou mening is,” nooi Karel. Op sy beurt wink hy die
kelner nader met die wyn vir die hoofgereg en draai dan weer na Laurika.
Met almal se aandag op haar, bloos Laurika ongemaklik. Dit verbaas
Kylie. So ’n mooi meisie het geen rede om onseker te wees nie, veral nie met
die man aan haar sy nie. Sy onderdruk vinnig die lagwekkende gedagte. Haar
kop werk ook deesdae nie meer so lekker nie. Seker maar die klimaat se
skuld.
“Wel, om net ’n voorbeeld te gebruik, Alex het twee keer Kilimandjaro
uitgeklim en nou wonder ek of hy geduld sal hê met iemand wat ’n trapmeul
uitputtend vind.”
Almal lag en Kylie bekyk Alex met nuwe oë. Dis iets wat sy self nog nie
beoog het nie en dit gee haar ’n interessante perspektief op hom. Definitief
die tipiese buitelugman, sy wonder net hoe effektief hy in die kantoor is.
Karel skud sy kop instemmend. “Dis presies wat ek bedoel, nie dat ek
daardeur sê dat ’n verhouding tussen julle nie kan werk nie, maar daar moet
gedeelde belangstellings wees, anders kan dit oormatige konflik veroorsaak.
Die huwelik vereis genoeg aanpassings sonder om voor die hand liggende
tekortkominge te ignoreer.”
“Nonsens!” Kylie se stem is beslis. “Nie een van my verloofdes het iewers
heen gegaan waar hulle nie vier wiele en ’n gemaklike bed onder hulle kon
voel nie, en dit was nooit ’n probleem tussen ons nie.”
“Jou verloofdes is ’n swak voorbeeld, Kylie. As jy so gemaklik hul
verskille aanvaar het, hoekom is jy nie meer verloof nie?”
Kylie kap vinnig terug. “Sekere goed is ononderhandelbaar en dit het niks
met avontuuruitstappies te doen nie.”
“Kom ons los nou die onderwerp. As ons twee eers aan die stry raak, is die
kans dat hierdie heerlike vars vis in ’n walvis in my maag verander. Laurika,
nog wyn vir jou?”
Laurika hou haar gebruikte glas uit. Voor Kylie haar subtiel kan reghelp,
vou Alex se hand oor die glas.
“Witwyn by witvleis,” hoor Kylie hom fluister. Laurika is nou openlik
verleë.
Alex kyk met vernoude oë na haar toe hy sien Kylie hou hulle dop. Sy lig
’n uitdagende wenkbrou en hoop haar gesigsuitdrukking dra haar boodskap
oor. Sy was nie van plan om ’n opmerking te maak nie, as hy dalk so gedink
het. Nie dat sy regtig omgee wat hy van haar dink nie.
Laurika probeer die situasie red. “Jammer, ek is vreeslik onkundig oor
hierdie goed. Gelukkig red Alex my gereeld voordat ek hom in die
verleentheid stel. Soos julle is Alex ’n wynkenner, sy pa het mos hierdie
ongelooflike wynplaas.”
Kylie onderdruk ’n minagtende snork. As sy pa ’n wynplaas het, is sy die
uitvinder van die brandstofenjin. Watter stories vertel hy die arme meisie nie
om haar te beïndruk nie? Seker dieselfde as waarmee hy haar pa om die bos
lei.
Haar irritasievlakke verhoog stadig maar seker en sy kan hom nie langer
ignoreer nie. Iemand moet hom op sy plek sit.
“En wat is jou kundige mening oor die wyn, meneer Du Preez?”
“Kylie!” Haar pa se stem is kortaf, waarskuwend.
Alex beduie ongeërg vir haar pa. “Nee, Karel, los haar. Ek is meer as
bereid om my mening oor die wyn te lug.” Hy bring die glas tot by sy neus,
draai dit ’n paar keer en neem ’n teug. “’n Goeie droë chenin blanc, medium
met ’n duidelike suurlemoenondertoon.” Bokant die wynglas is sy groen blik
uitdagend op haar gerig. “Miskien nog iets van ’n lemmetjie- en dalk ’n
perskesmaak. Definitief van uitstaande gehalte.”
Kylie staar hom onthuts aan, maar nie vir lank nie. “Wanneer reël jy dat
my motor herstel word?”
Sy tande flits wit teen sy bruingebrande vel toe hy glimlag en sy kuiltjie lê
diep in sy wang.
Liewe hemel, maar hy is aantreklik, flits die gedagte weer deur haar. Sy
konsentreer daarop om haar bonsende hart in bedwang te kry en hoor net
vaagweg hoe hy antwoord.
“Ek sal Maandag daarvan werk maak. En ek beoog om deur ekstra
tuinwerk vir die skade te vergoed.”
Anja se gegiggel bring haar terug na die werklikheid. Sy kners op haar
tande toe sy sien hoe hy en Elnette vir mekaar glimlag. Hy kyk weer na haar
en hulle kyk mekaar ’n paar lang oomblikke in die oë voordat hy sy wynglas
in haar rigting lig en dan ’n sluk neem.
“Ek hoor jy het Alex as ons nuwe tuinier aangesien?” Haar pa lag uit sy
maag. “Wat jy nie weet nie is dat hy net lief is vir tuinwerk en oor naweke
daarmee help.”
“Wat verwag Pappa as hy soos ’n onbeskaafde ding in die tuin rondloop?”
Haar stem styg en sy konsentreer op selfbeheersing voordat sy verder praat.
“Waar ek vandaan kom, is die mans afgerond, veral as hulle senior poste in
maatskappye beklee.”
“Wel, ek persoonlik het nie ’n probleem met hoe Alex geklee was nie.
Pappa se voltydse tuinier is nie so lekker op die oog nie.”
Kylie draai verontwaardig na Anja. “As jy my ouderdom bereik, sussie,
dan het jy al geleer dat die mans met die grootste spiere die minste verstand
het.”
“Kylie, jy gaan nou te ver!” Haar pa se bulderende stem weergalm deur die
vertrek.
Sy bloos, maar haar stem verklap niks van haar ongemak nie. “Wat bedoel
Pappa? Sover ek kan onthou, was jy die een wat my geleer het om my
mening eerlik te lug.”
“Dit was nie ’n mening nie, dit was ’n regstreekse belediging.”
“Hoe oud is jy, Kylie?” Haar kop swaai na Alex. Sy frons verward. Wat
pla die man nou? Sy is besig om ’n intelligente gesprek met haar pa te voer.
“Vyf en dertig ...”
“Ek wou net seker maak.” Hy leun agteroor en brei nie uit nie.
Sy kan nie die vraag keer nie. “Hoekom?”
“Want jy tree heelaand soos ’n kleuter op wat nie haar sin kry nie.”
Die ander lag asof dit die snaaksste grap nog is. Kylie bekyk almal
meerderwaardig. Beledigings intimideer haar nie, dit sal nie lank wees
voordat hy dit agterkom nie.
Haar pa begin stadig hande klap. “Bravo, Alex, bravo. Jy leer vinniger as
die meeste mans. My moeilike dogter moet jy vinnig op haar plek sit of sy
neem oor.”
“Pappa!” Nou steek sy nie haar woede weg nie. “Hoe kan jy so iets sê!”
“En hoe kan jy so met een van my vriende praat en dink ek gaan stilbly?”
Kylie kyk na die bron van haar probleme. Haar pa se vriend! Sy het
lanklaas iets so belagliks gehoor. Weet haar arme pa presies wat die
vriendskap inhou? Sy glo nie. Alex beantwoord haar wrewelige blik met ’n
glimlag van genoegdoening terwyl sy groen oë onheilspellend vonkel.
“Dis nou genoeg!” waarsku haar pa toe sy weer iets wil sê. “Kom ons bêre
nou die dolke en gebruik net die messe en vurke op die tafel. Kylie, Alex, het
ek julle samewerking?”
Alex knik.
“Ja, Pappa.” Haar stem is bedees. Sy lees in haar pa se oë hy is nie geflous
nie, maar hy ignoreer haar deur die onderwerp te verander.

Die volgende oggend open sy ’n bankrekening en bring al haar persoonlike


sake in orde. Gewapen met haar CV besoek sy werkagentskappe. Sy kry oral
die bevestiging dat sy nie sal sukkel om werk te kry nie. Ondanks haar ma se
pleidooi is sy nie bereid om in dieselfde maatskappy as Alex te werk nie. Iets
sê vir haar die situasie sal in ’n oorlog ontaard, ’n oorlog tussen botsende
menings en teenstrydige behoeftes.
Haar pa sal maar weer op die harde manier moet leer. Die feit dat hy so ’n
duidelike voorkeur vir die man toon, het regtig niks met haar besluit uit te
waai nie, so kleinlik is sy nie.
Gelukkig kon sy die vorige aand vinnig wegkom met die verskoning dat sy
nog aan vlugvoosheid ly, anders sou sy haar weer haar pa se woede op die
hals gehaal het met haar optrede teenoor sy gunsteling.
Toe sy later die middag op die stoep sit en koerant lees, kan sy nie anders
as om die aankoms van die Porsche dop te hou nie. Sy verdiep haar
onmiddellik in die berig en kyk nie op toe hy voor die hoofingang stilhou nie.
Haar pa is in sy studeerkamer en sy hoop hy kies die kortste pad soontoe.
Die leunstoel naaste aan hare kreun skielik. Haar nek ruk toe sy vinnig
opkyk. Sy onnutsige kuiltjieglimlag begroet haar en hy leun agteroor asof die
plek aan hom behoort.
Sy byt op haar tande en soek na die regte woorde vir ’n deeglike afjak. Die
ontroue deel in haar fokus egter meer op sy voorkoms. Sy weet hoe hy onder
daardie wit hemp lyk wat nou om sy breë skouers span, en dit verg nie veel
van haar verbeelding om te onthou hoe sy fris bene lyk wanneer dit nie deur
’n donkerblou snyersbroek bedek word nie. Sy dasknoop hang halfpad op sy
bors en sy boonste knope is los, sodat sy net skrams sy borsspiere daaronder
kan sien. Haar besige brein herroep die prentjie van ’n kaal bolyf waar die
spiere ...
Hou op! Haar ongedurige hart spring haar borskas vol en sy klem verbete
aan die koerant in haar hande. Sy probeer op enigiets anders as die man voor
haar fokus. En meteens, totaal onverklaarbaar, is haar keel droog en haar
verstand ’n blanko vel papier.
“Hoe was jou dag?”
Haar pa maak sy verskyning in die skuifdeur, ’n selfoon teen sy oor. Van
iewers diep sy haar goeie maniere op.
“Besig, dankie.” Haar oë bly vasgenael op die berig in die koerant. Haar pa
se kompetisie sukkel met ’n staking. Sy hoop nie dit spoel oor na
Visserkonstruksie nie. Sy wonder ... as haar man, so ’n sensuele een soos die
een langs haar, eendag by die huis kom, sal sy regtig rustig kan koerant lees,
of sal sy hom tegemoethardloop en elk van sy kledingstukke so vinnig
moontlik afpluk om uit te kom by ...
“Geniet jy dit om terug te wees in jou geboorteland?”
Sy kyk vinnig op en bloos. Sy groen oë toon net opregte belangstelling en
sy is dankbaar hy kan nie gedagtes lees nie.
“Ná wat gebeur het nie regtig nie.”
Haar snipperigheid ontspoor hom nie. “Het jy ons werkaanbod oorweeg?”
Sy stoot haar vlegsel oor haar skouer. Waarvoor die inkwisisie? Hy is die
een wat gerus ’n paar vrae kan beantwoord. “Nog nie.”
“Sien jy kans om die akademiese wêreld te verruil vir die uitdaging van die
korporatiewe opset?”
Haar blik verskuif weer na haar pa wat op die trappe staan. “Ek is gebore
hiervoor, dis deel van my gene.”
“Dit beteken jou wêreldekspedisies sal agterweë bly. Jy kan nie oornag
oppak en weggaan nie.”
Sy staar na die son wat besig is om onder te gaan. Haar antwoord is
verbasend eerlik. “Alles in die lewe vereis sekere opofferings en ek glo ek het
’n versadigingspunt vir die rugsaklewe bereik.”
“Is ’n man en kinders deel van jou beplanning?”
Sy draai ietwat gesteurd na hom. “Natuurlik. Waarom anders sou ek
verloof geraak het?”
“’n Ouer man soos Jonathan was dalk nie meer lus vir doeke en bottels nie.
Hy is darem al self ’n oupa.”
Sy ingeligtheid oor Jonathan verwar haar steeds. “Hy was bereid om aan te
pas by wat ek wou hê.”
“Hoeveel kinders het jy in gedagte? Ek wil minstens twee hê.”
Twee? Sy sal self nie omgee vir twee blondekopseuntjies nie. Hul oë sal
definitief groen moet wees. Sy sit regop. Waarheen vat haar afleibare
gedagtes haar nou weer?
Sy probeer weer agter die koerant skuil. Verbaas sien sy uit die hoek van
haar oog hoe hy vorentoe buig, die koerant uit haar hand vat en eenkant
neersit. Sy gluur hom aan.
“Hou op om my te ignoreer, dit gaan nie werk nie.”
“Ek ignoreer jou nie.” Nou is hy weer te na aan haar. Sy ligte
lemmetjienaskeermiddel terg haar sintuie en sy sien die effense donker
growwigheid van sy baard. Haar hande jeuk om daaroor te vryf. Die
intensiteit van sy groen oë hou haar gevange en skielik weet sy nie wat sy
verder wou sê nie.
Sy is dankbaar toe haar pa sy gesprek beëindig en by hulle aansluit. Dit gee
haar kans om haar uit die voete te maak. Die gesprek en haar gedagtes is op
ontoelaatbare paaie.
“As julle my sal verskoon, ek moet my ma bel.”
“Sien ons jou aan die etenstafel?”
“Nee, ek het klaar geëet. Ek is nog nie gewoond aan julle drie maaltye per
dag nie.” Sy maak die koerante bymekaar en vlug deur die skuifdeure.
In haar kamer gaan staan sy voor die spieël en kyk na die vrou wat na haar
terugstaar. Haar wange is ’n onnatuurlike rooi en haar oë ’n diep blou. Die
man het ’n ontstemmende effek op haar en sy begryp dit nie. Is dit die
uitdaging om hom aan die pen te laat ry wat hierdie tintelende afwagting in
sy teenwoordigheid laat ontstaan, of is dit iets anders? Sy wens sy het geweet.
Haar persoonlikheid eis konkrete feite, en die onpeilbaarheid van haar
gevoelens verbouereer haar. Dit sal beter wees as sy hom sover moontlik
vermy.

“Komplimente aan die kok! Die kos was van die boonste rakke. Daar is niks
waarna ’n mens meer verlang as boerekos wanneer jy in ’n vreemde land is
nie.” Kylie sug behaaglik en leun agteroor. Haar blik beweeg oor die
oopplanvertrek. Haar ma se dakwoonstel is indrukwekkend. Nie die
informele gemaklikheid van haar pa se huis nie, maar met ’n gesofistikeerde
uitleg wat eie is aan haar persoonlikheid. Behalwe die voor die hand liggende
ontrouheid van haar pa wat haar ma as rede aangevoer het, het sy baie
bespiegel oor hoekom haar ouers se huwelik nie gewerk het nie. Haar
uiteindelike gevolgtrekking was dat hulle net te veel verskil het. Ondanks
haar pa se rykdom, is hy ’n eenvoudige plat-op-die-aarde-man. Haar ma
daarenteen is ingestel op korrektheid te alle tye. Iewers tussen die twee moes
sy haar ware self vind. Meestal vind sy aanklank by haar ma se manier van
doen, en tog, ander kere wonder sy daaroor.
Chris leun oor en skink nog wyn in haar glas. “Ek stem saam. Wanneer ek
terugkom van ’n oorsese konferensie, is my eerste opdrag aan Maria om vir
my ’n behoorlike bord kos te maak.” Hy was vandag uit die staanspoor in ’n
joviale bui. Sy is bly daaroor. Hopelik voel hy nie meer so antagonisties
teenoor haar nie en kan hulle, ter wille van haar ma, op gemaklike voet met
mekaar verkeer.
“Sy is ’n bobaaskok,” stem Kylie saam. “Ek beter na my dieet begin kyk.
Ek is skaars ’n week hier en ek het meer geëet as wat ek in twee weke by my
huis sou eet.”
“Jy is die laaste een wat gepla moet voel oor jou gewig. Jou metabolisme
was nog altyd ’n mediese wonder. Hoe meer jy eet hoe maerder word jy. Is jy
nog so versot op sjokolade?”
Kylie glimlag. “Ongelukkig, ja. My enigste swakheid.”
Engelette snork skepties. “Kom ons drink koffie in die sitkamer voordat ek
myself in ’n argument bevind.” Kylie volg hulle en maak haar op die rusbank
tuis, haar kaal voete op die koffietafel.
“Kylie, jou maniere!” betig Engelette haar.
“Ag, Mammie, hou op. Op my ouderdom kan ek nie meer my afwykings
onderdruk nie.” Kylie se goedige gekorswel ontlok ’n suur glimlag van haar
ma.
“En ek het geglo ek het ’n goeie belegging gemaak toe ek jou na daardie
peperduur afrondingskool gestuur het. Nou is ek nie meer so seker nie.”
Kylie lag. Sy geniet dit om haar ma te terg.
“So, wat is jou planne?” wil Chris weet terwyl hy oorkant haar gaan sit.
Dis vir Kylie moeilik om te erken dat sy nog geen sekerheid het nie. “Ek
gaan eers ’n huis en ’n motor aanskaf, dan besluit ek waar ek gaan werk. My
agentskappe het reeds ’n paar onderhoude vir my gereël.”
“Ek neem aan jy gaan nie terug Amerika toe nie?” vra Engelette, afwagting
duidelik in haar stem.
“Nee, daarvan is ek ten minste seker. Ek het te veel na my familie verlang.
Noudat ek jou en Pappa en Anja weer gesien het ... my lewe is hier by my
mense.”
“Ek is bly om dit te hoor, maar waar pas Visser-konstruksie in jou
planne?”
“Ek weet nie of dit deel daarvan is nie.”
“Ek het gehoop jy sal nie toelaat dat Alex jou uitwerk nie.”
Kylie hoor die ergernis in haar ma se stem en sy moet ’n glimlag
onderdruk. Haar ma deins nie terug vir ’n uitdaging nie. Met sulke genetika,
watter kans het sy om anders te probeer wees?
“Mammie, gun my asseblief ’n paar dae kans voordat ek enige
toekomsbesluite neem. Ek gee nie net oor nie, maar soos enige goeie
projekbestuurder versamel ek eers feite voordat ek ’n projek aanpak.”
“Ek sal jou besluit respekteer, wat dit ook al mag wees, maar jou pa het jou
nodig. Vir my gaan dit oor meer as net die onvanpaste besturende direkteur.
Jy weet ek het ’n paar niksseggende aandele met die egskeiding gekry?”
Kylie knik en wonder watter onrusbarende nuus haar ma haar nou weer
gaan meedeel.
“Wel, klokslag kry ek my tjekkie by jou pa, maar die afgelope ruk kry ek
die idee hy probeer wegsteek wat presies in sy maatskappy aan die gang is.
As ek vrae vra, word ek ingelig dat dit niks met my te doen het nie. Ek het
volgens hom nie die reg op enige vertroulike inligting nie aangesien ek ’n
baie klein aandeelhouer is. Ek was egter geskok toe ek hoor jou pa het sy
vakansiehuis en wildplaas die afgelope jaar van die hand gesit. Jy weet hoe
verknog hy aan daardie plaas was. Sy antwoord was dat hy te min daar kom.
Ek glo nie daardie flou verskoning nie. Ek wil weet wat aangaan en die beste
plek om dit agter te kom, is in die besigheid. Ons het ’n verantwoordelikheid
teenoor jou pa om te help as hy ingeloop word. As dit deur sy eie foute is,
dan is dit natuurlik ’n ander saak.”
“Pappa was nog altyd ’n uitstekende sakeman, hy sal nie ingeloop word
nie.”
“Ek is nie so seker daarvan nie. Wat van jou pa se tweede vrou? Sy en haar
minnaar het miljoene uit hom gekry en hy was so verlief dat hy niks eens
agtergekom het nie. Dit mag nie weer gebeur nie. Ek het genoeg respek vir
jou pa om alles in my vermoë te doen om hom te help.”
“Ek belowe Mamma ek sal alles in ag neem voordat ek finaal besluit.
Vertel my eerder hoe lyk dit by die balie, maak julle steeds geld soos
bossies?”
Chris en Engelette lag.
“Hoe dink jy kan ons die penthouse in Sandton bekostig?”
Kylie glimlag. “Hoeveel keer het Mamma nie gesê ek was dom om nie
eerder ’n advokaat te word nie? Maar nou ja, ek het darem nie op aalmoese in
Amerika geleef nie. So, vertel my van die uitdagings van julle beroep, ek
dink ek weet genoeg van die astronomiese gelde wat julle vra.” Kylie maak
haar nog gemakliker op die rusbank terwyl die twee advokate oorkant haar
met mekaar meeding om haar oor hul jongste sake in te lig. Dis wonderlik om
terug te wees, dink sy terwyl sy na hulle luister. Daar is wel ’n paar donker
wolke op haar horison, maar niks wat sy nie kan hanteer nie. Sy het nie
noodwendig haar pa se besluit aanvaar nie, maar sy glo sy sal daarmee kan
saamleef. Tyd sal leer.

Vies mik Kylie ’n tweede keer na die sleutelgat. Wat help dit daar is ’n
stoeplig as dit nie tot hier skyn nie?
“Die deur is oop.” Die hees manstem kom uit die verste hoek van die
stoep. Kylie verstyf en draai dan stadig in sy rigting. Alex is net ’n skadu in
die hoek en dit duur ’n ruk voordat sy hom behoorlik kan uitmaak. Hy sit
uitgestrek op ’n stoel met sy hande agter sy kop. Die uitdrukking op sy gesig
is onleesbaar in die donker.
“Wat doen jy hier?”
Hy staan doodrustig op en stap nader, sy teenwoordigheid oorweldigend.
Om sy lippe is dieselfde glimlag soos die eerste keer toe sy hom gesien het.
Toe het daardie glimlag ook ’n vreemde effek op haar hart gehad, haar vel
tintel. Laag in haar onderlyf trek iets saam, ’n gevoel van angstigheid, asof
iets gaan gebeur waaroor sy geen beheer het nie.
Die deurknop druk in haar rug. Hy is nou in haar persoonlike ruimte en sy
geurige naskeermiddel vou om haar. Haar hartklop versnel.
“Ek wag vir jou.”
“Dis regtig nie nodig nie. Ek is ’n groot meisie en kan na myself kyk. Ek
het nie ’n vaderfiguur nodig om oor my veiligheid te waak nie.”
Sy glimlag verdiep en sy kuiltjie is weer opvallend.
“Ek beskou myself nie as ’n vaderfiguur nie. Inteendeel, my gedagtes oor
jou is allesbehalwe vaderlik.” Sy stem beweeg soos ’n sagte aanraking oor
haar vel.
Haar benoude hartklop is nou oorverdowend in haar ore. “Moenie enige
gedagtes oor my hê nie. Jy moes seer seker die boodskap gekry het dat ek nie
belang stel nie.” Haar stem is vreemd skor.
Hy grinnik. “Ons sal sien. Het jy jou ete by jou ma geniet?”
“Sophia is ’n waardevolle bron van inligting.” Sy het niemand anders
behalwe die huishoudster oor haar planne ingelig nie. Anja slaap by ’n
vriendin, Elnette sien sy omtrent nooit nie en haar pa oornag in Kaapstad,
waar hy ’n afskeidsgeselligheid by die takkantoor bywoon.
“Is sy nie? Wees dus gewaarsku, jou doen en late sal nie ’n geheim bly
terwyl jy hier woon nie.”
Haar arms vou werktuiglik oor haar bors toe sy sien waarheen sy oë dwaal.
Haar stywe jeans en moulose hempie voel skielik baie kaal. Haar kurwes het
nog altyd ongevraagde aandag getrek, soveel dat sy ’n oorjas aantrek
wanneer sy projekte besoek waar daar baie mans is.
“Is dit ’n subtiele waarskuwing? En waarom die belangstelling in my doen
en late?”
“Inligting is mag. Ek ken jou ma, die vuurvreter, en ek kan nie dink jy
verskil veel van haar nie. Julle gaan nie my oorname suutjies aanvaar nie,
gaan julle? Ek berei my vir ’n oorlog voor.” Sy antwoord nie en hy gaan
tevrede voort. “Ek wou egter nog altyd die geskiedenisboeke herskryf, en wat
is opwindender as ’n oorwinning oor die gevreesde amasone?”
“Amasone?” Kylie snak na haar asem. Naas haar kurwes is haar lengte ’n
sensitiewe saak.
“Ja, jy weet mos, ’n vroulike kryger in die Romeinse mitologie?”
Kylie staar hom geskok aan en hy lyk verbaas oor haar reaksie.
“Dis ’n kompliment, professor Visser. Ek het gedink jou ma is die mooiste
vrou wat ek nog ontmoet het. Totdat ek jou daar in die tuin gesien het, toe
moes ek my mening verander. Jou foto’s het nie jou ware skoonheid gewys
nie.”
Gemengde gevoelens beur na vore, ’n bisarre kombinasie van opwinding
en vrees. Hy het ’n gladde mond.
Sy dwing die woorde verby die tennisbal in haar keel. “Het jy uit ’n gestig
ontsnap?”
“Sedert ek jou ontmoet het, twyfel ek self oor my geestelike ewewig.” Sy
verstaan nie die ernstige lig in sy oë nie. Dit maak haar onbeholpe en sy soek
tekens dat hy haar vir die gek hou. Sy sien nie onmiddellik die hand wat hy
na haar uitsteek nie. Hy vou haar wanordelike vlegsel in sy vuis toe.
Afwagting verlam haar. Waarom is hy so met haar hare gepla? Sy kan net
gemesmeriseer toekyk hoe dit deur sy hand gly. Het sy regtig netnou iets
gepraat van nie belang stel nie, want dan werk haar kop en lyf nie saam nie.
Iets in haar smag na sy aanraking.
“Jy het sulke dik hare. Dra jy altyd ’n vlegsel?” Sy knik stom op die
onbenullige vraag.
Hy verstewig sy greep op haar vlegsel en trek haar kop stadig nader. Sy
beweeg gedwee vorentoe. Sy is veronderstel om hom op sy plek te sit, maar
nie eens vir al die maatskappye ter wêreld kan sy protes aanteken nie. Haar
oë is vasgenael op sy naderende lippe.
“Selfs as jy slaap?” fluister hy die vraag teen haar lippe. Sy asem ruik na
koffie. Haar tong gly oor haar oorsensitiewe lippe. Sy smag na sy smaak.
Die deur gaan agter haar oop en hy keer net betyds dat sy val. Elnette
bekyk die twee met ’n opgetrekte wenkbrou. Kylie beweeg vinnig uit sy
omhelsing.
“Ek het gedink ek hoor stemme. Alex, waar bly jy so lank? Ek het jou hulp
nodig ...” Haar betekenisvolle opmerking saam met haar nagklere stuur vir
Kylie ’n duidelike boodskap. ’n Ysigheid neem van haar besit. Haar pa mag
die dwaas in hierdie klugspel wees, maar sy sal nie so gebruik word nie. Sy
beloon Alex met ’n moorddadige kyk voordat sy by Elnette verbyskuur.
Haar kamerdeur tref die kosyn met ’n plofslag en haar motorsleutels trek
oor die bed en beland uiteindelik op die vloer. Dit laat haar nie beter voel nie
en moedeloos val sy op haar bed neer. Sy kan nie glo sy het so maklik voor
sy heuningmond geswig nie. Nou weet sy wat agter sy belangstelling skuil.
Hy wil haar liggaam en verstand in ’n magnetiese veld gevange hou, dan is
daar geen energie oor om ’n strategie teen hom uit te dink en deur te voer nie.
Sy werk daagliks in ’n manswêreld. Het sy nie genoeg ervaring om teen
sulke stroperigheid gewapen te wees nie? Hopelik sal sy nou katvoet loop.
En as enigiets haar daarvan oortuig het om hierdie man bloot te stel vir wie
en wat hy regtig is, het vanaand se voorval dit bevestig. Niemand loop haar
en haar familie in en dink hulle gaan daarmee wegkom nie. Dis haar plig om
vir haar pa te wys dat hy ’n Trojaanse perd hier in hul midde gebring het.
Haar ma het pas haar sin gekry.
Vier
Dis vir Kylie ’n pynlike ervaring om vir die eerste keer ná soveel jare weer
by die voorportaal van Visser-konstruksiemaatskappy in te stap. Hier het sy
as kleuter met twee poniesterte en ’n haasbek ingetrippel, in die wete dat die
koninkrykie eendag hare gaan word. Hoe maklik word ’n mens se drome
oornag vernietig, en sy is die een wat soos ’n verraaier voel om haar pa se
onderneming te betree in ’n poging om sy besluite te ondermyn. Maar ná
gisteraand het sy nie juis ’n ander keuse nie.
“Kylie, my poppie!” Die ongepaste troetelnaam is soos ’n rasper oor ’n
oop senuwee. Daar is net een mens wat dit sou waag om haar so te noem. Sy
draai om en kyk vas in die laggende bruin oë van Hans Kasselman. Sy kry
nie kans om te protesteer teen die omhelsing waarin hy haar beetkry nie. Sy
droë lippe op hare maak haar benoud en sy druk teen sy bors.
Hy tree teësinnig terug.
Hy het nie veel verander van die matriekseun met wie sy ’n kort rukkie
uitgegaan het nie. Sy blonde hare is ’n bietjie minder bo en hy het lyf
aangesit. Maar die besitlikheid in sy oë is steeds daar en was die grootste rede
waarom sy die verhouding verbreek het. Sy verduidelik nie haar kom en gaan
aan enigiemand nie, maar hy wou nooit die boodskap kry nie.
Sy onderdruk haar irritasie. Miskien het hy verander. Hopelik het hy die
huislike probleme waarmee hy destyds gesukkel het, verwerk. Hy het haar
net een keer vertel dat sy pa hom en sy ma emosioneel aftakel. Sy kon dit as
’n rede vir sy swak selfbeeld aanvaar, maar sy kon nie by sy onsekerhede
aanpas nie. “Ek hoor jy is die finansiële bestuurder hier, baie geluk!”
Hy stoot sy bors uit. “Ja, drie jaar al. Ek en jou pa het goed saamgewerk.”
Hy sit sy arm om haar skouers. “Ek was jammer om te hoor jy gaan nie jou
pa se plek oorneem nie.”
“Ja, my pa glo dat Alex nou die regte man vir die pos is.” Sy probeer
subtiel uit sy omhelsing kom, maar hy versterk net sy greep. “As jy my sal
verskoon, ek het ’n afspraak wat ek moet nakom.”
“Natuurlik! Kan ons dalk iewers saam gaan eet? Ons het baie om oor te
gesels.”
Sy huiwer. Sy wil nie hê hy moet die idee kry dat hulle weer met ’n
verhouding kan begin nie. Oor sy skouer sien sy die sportmotor wat voor die
ingang stilhou en Alex wat uitklim. Hy oorhandig sy sleutel aan die wag en
stap in hul rigting.
Sy probeer klein word agter Hans. ’n Futiele poging op sy beste, besef sy,
sy is nie veel korter as Hans nie.
Die afwagting op Hans se gesig bring sy vraag terug. Inligting is mag,
onthou sy ’n sekere man se woorde, en watter bron van inligting staan nie
voor haar nie?
“Dit sal goed wees. Kry my vanaand seweuur by my pa se huis.”
“Julle blokkeer die ingang!” Die hees stem is ’n paar desibels harder as
gewoonlik.
Hulle draai na Alex, wat geïrriteerd na hulle staar.
Prince Charming hou nie van kompetisie nie, lei sy af. Hy dink seker hy
het alleenreg op die vroue in sy omgewing, of miskien is hy bang oor die
geheime wat sy boontjieteller oor ’n glasie wyn kan vertel.
“Meneer Du Preez, wat ’n verrassing.” Die glimlag op haar gesig is so
kunsmatig soos haar vriendelike stemtoon.
“Professor Visser, wie vereer jy met jou teenwoordigheid?”
“Ek kom afmetings van my pa se kantoor neem voordat ek my nuwe
lessenaar bestel.” Haar grynslag verdwyn nie. Sy groen oë glinster gevaarlik.
Hans lag geamuseerd terwyl hy haar vlegsel beetkry en spelerig rondswaai.
“Jy was darem nog altyd ’n grapjas, my poppie. Alex is nou in jou pa se
kantoor.”
Kylie ignoreer Hans se opmerking. Sy verwag nie van hom om die
sarkasme hier raak te sien nie.
“Het jy besluit om my werkaanbod te aanvaar?”
“Ek het nog nie besluit nie.”
Hy knik en draai dan na Hans. “Ek wil jou graag in my kantoor spreek.
Daar is ’n paar syfers wat ons moet nagaan.”
Kylie besef haar onderkakebeen gee nuwe betekenis aan die woord
swaartekrag toe sy toekyk hoe Alex heel terloops haar vlegsel uit Hans se
hand trek en versigtig buite bereik hang.
“Professor Visser sal seker haar eie pad kan vind.” Hy stap verby hulle en
Hans wil nog iets sê, maar die koue blik wat op hom gerig word, sorg dat hy
soos ’n goed opgeleide hond agterna drentel nadat hy vinnig gegroet het.
Kylie staar hulle oopmond agterna.

Wat ’n fenomenale teleurstelling. Dis al hoe Kylie haar gesprekke met


sommige van die personeellede kan beskryf. As sy geweet het dit gaan ’n
huldigingsrede aan Alex word, het sy eerder die tyd sinvoller gebruik om
haar toonnaels uit te trek. Volgens hulle kan hy niks verkeerd doen nie.
Nêrens kry sy enige inligting wat sy teen hom kan gebruik nie. Die gedagte
frustreer haar grensloos.
En asof dit nie genoeg van ’n martelingsessie was nie, moet sy nou in ’n
raserige restaurant sit en luister na Hans wat heeltyd oor homself en sy
sogenaamde prestasies uitwei.
Eers toe die kelner hul koffie bring, kry sy haar vraag in: “Hoe goed kom
jy en Alex oor die weg?”
Die suur uitdrukking op sy gesig sê genoeg en sy sit in afwagting vorentoe.
“Hy is ’n arrogante blikskottel. Hy het maande gelede daar ingestap en net
alles oorgeneem. En die personeel val oor hul voete om hom te please, veral
die vroue.” Hy frons vies. “Prosedures wat jare werk, is in ’n oogwink
verander en elke beweging wat ’n mens maak, word dopgehou, asof jy nie
weet hoe om jou job te doen nie.”
“Sowaar?” Kylie probeer om so simpatiek moontlik te lyk. Hier is tekens
van afguns wat sy moontlik kan ontgin.
“Sowaar. En ek het niks teen jou pa nie, hy is ’n nice man, maar hy het
hom net onttrek en die upstart vrye teuels gegee. Ek het moeilik daaraan
gesluk. As jou pa moeg was vir die job, sou ek dit ook kon doen.” Toe hy die
verbaasde uitdrukking op haar gesig sien, korrigeer hy homself vinnig.
“Askies, Kylie, ek bedoel as jy nie die werk wou hê nie.”
Sy besluit om die laaste opmerking eers te ignoreer. Hoe hy ooit die idee
kon kry dat hy by haar pa sou oorneem, sal net hy weet. “Hoe lyk die
maatskappy se finansies?”
“Wel, seker oukei. Ons het so ’n jaar gelede deur ’n slegte tyd gegaan.
Kontrakte was min en uitgawes groot. Ek dink jou pa het motivering verloor.
Hy moes toe al afgetree het, maar toe kry hy die mannetjie in.”
Die gedagte maak steeds seer, besef sy. Hy moes haar kans gegee het om
hom te help. Dit sou niks minder as regverdig gewees het nie aangesien hy
haar jare gelede belowe het sy werk is vir haar bestem.
Hans skuif nader en fluister, asof hy ’n groot geheim wil vertel. “Ek
vertrou hom glad nie. Hy en Elnette het definitief ’n affair.”
Sy neem ’n vinnige sluk van haar koffie terwyl sy wag dat hy voortgaan.
Nog iemand wat dit vermoed, dan moet dit seker die waarheid wees.
Teleurstelling lê swaar in haar. Sy het so gehoop hierdie huwelik van haar pa
kan werk. Hy verdien ’n bietjie huweliksgeluk. En oor Alex se rol hierin wil
sy nie te veel dink nie. Sy sou graag die onderwerp wou vermy, maar die
inligting kan dalk bruikbaar wees.
“Hoekom sê jy so?”
“Die hele gebou weet daarvan. Hulle is flippen blatant, want sy is meer in
sy kantoor agter geslote deure as by haar haarkapper. En die beste van alles,
hy kom sy vrou by en toe maak jou pa hom nog CEO!” Hans maak vinnig
verskoning toe hy haar uitdrukking sien. Sy onsmaaklike opmerking skok
haar, maar sy laat nie toe dat dit haar ontspoor nie. Sy moet die geleentheid
gebruik om soveel moontlik te hore te kom.
“Waar kom Alex vandaan? Weet jy iets van sy agtergrond?”
“Niks, absoluut niks. Hy het net eendag sy verskyning gemaak en in die
kantoor langs jou pa ingetrek. Hy en jou pa ontwyk enige vrae oor sy
ervaring of kwalifikasies.”
Kylie sug moedeloos. Die geheimsinnigheid wat die man omhul, maak
haar benoud. Sy begin verstaan hoekom haar ma so bekommerd is. Alles is
nie heeltemal pluis nie, sy is bereid om haar erfporsie daarop te wed.
Sy staan op. Sy het genoeg gehoor, sy wil nou by die huis kom sodat sy
kan dink oor wat haar volgende stap moet wees.

Kylie draai op haar maag en reik na die hoop ingenieurstydskrifte langs haar.
Sy is klaar verveeld, besef sy. Sy is amper twee weke terug en in hierdie
stadium het sy niks anders om te doen as om langs die swembad te lê nie.
Sy het ’n meenthuis naby haar familie gekoop en ná registrasie kan sy
intrek. Terselfdertyd het sy ’n goeie tweedehandse bakkie aangeskaf en
laastens het sy ’n boodskap vir Alex gelos dat sy hul werkaanbod aanvaar. Sy
het tentatief die besluit geneem ná haar gesprek met Hans, maar het eers ’n
paar dae daaroor gedink voordat sy haar pa ingelig het. Hy was verstaanbaar
verheug, min wetend dat sy geheime motiewe vir haar besluit het. Sy moet
weet wat hier aan die gang is. Haar optrede is nie totaal onselfsugtig nie.
Raak sy van Alex ontslae, is die pos hare. So hoort dit. En dan is daar ook
haar ma se bekommernis oor haar pa se finansiële situasie. Iewers is daar
moontlik ’n verband.
Sy gooi die eerste paar tydskrifte eenkant. Alles ou nuus. Haar oë rek toe
sy die volgende tydskrif optel. Wie sou kon raai haar pa lees hierdie goed?
Maar dan, mans bly mans. Sy blaai deur die tydskrif. Hoe kan meisies uittrek
vir geld? Dis een vraag waarop sy nog nooit ’n antwoord kon kry nie.
Sal sy ooit die innoverende magisterstudent in haar klas vergeet wat
steelfoto’s van haar in haar bikini op haar woonstel se balkon geneem het?
Hy het gedink sy sou gevlei voel toe hy die foto’s van haar met ’n aanbod
van ’n soortgelyke tydskrif vir hul middelblad wys. Hy kon glad nie haar
woede verstaan nie. Sy kon dan meer geld verdien met een stel foto’s as wat
’n dosent in ’n jaar verdien. Sy hoop hy kon darem weer sy kamera heel kry.
Gelukkig kan sy nou daaroor lag.
“Wat is so snaaks in die tydskrif?” Sy kom regop. ’n Paar blink, swart
skoene en ’n grys langbroek verskyn in haar gesigveld.
Sy kan nie wag om in haar plekkie in te trek nie, dink sy vervaard. Daar is
sy darem seker van haar privaatheid. Sy loer tersluiks of haar bikinibostuk
toemaak wat moet toe wees.
Sy rek haar nek om in sy oë te kyk. Benoudheid laat haar mond skielik
droog voel. Waarom reageer sy so vreemd elke keer wanneer sy in daardie
groen oë vaskyk?
“Wat doen jy hier? Het jy nie werk nie?”
Hy frons. “Jy is die ongasvryste vrou wat ek nog teëgekom het. Gewoonlik
is meisies opgewonde wanneer ek vir hulle kom kuier.”
“Regtig? Wie sou dit kon raai?” Kylie wonder of sy moet opstaan. Sy
besluit om te bly lê.
“Ek het vir jou ’n kontrak gebring. Ons verwag jou Maandag.”
Sy hou haar hand uit vir die koevert, maar hy hou dit buite bereik.
“Jy kan dit kry as jy opstaan.”
“Ek is nie ’n kind nie. Moenie speletjies met my speel nie.”
“Was jy ooit ’n kind? Jou pa skilder die prentjie van ’n meisie wat net
heeldag voor haar boeke gesit het.” Sy afleiding is te na aan die waarheid. Sy
het nooit maats gehad nie, want sy het nooit gespeel nie. Om prestasies soos
hare in te ryg, het baie tyd by die lessenaar vereis en wat het daardie
opoffering haar in die sak gebring? Sy bring haar gedagtes vinnig in
bedwang. Haar dag sal kom.
“Gee my die dokumentasie en gee pad.”
Sy aantreklike gesig helder op in ’n selfvoldane glimlag. “Hoekom wil jy
nie opstaan nie? Het jy iets om weg te steek?”
Sy spring op en gryp na die koevert. Hy hou dit buite bereik.
Sy tree terug, haar hande in haar sye. Sy is slimmer as dit, besluit sy. Sy sal
nie in ’n stoeiery met hom betrokke raak nie.
Hy laat sak sy arm en beskou haar blatant op en af. Dan fluit hy saggies
deur sy tande.
“Wat is fout?” Kylie kan nie die benoude vraag keer nie. Sy beoog
momenteel om haar bolyf agter haar handdoek weg te steek, maar besluit
liewer nie. So onseker is sy hopelik nie.
Hulle kyk mekaar in die oë. Sy retireer toe sy die onheilspellende lig in
syne sien.
“Niks is fout nie. Inteendeel, in my stoutste drome kon ek ...” Hy bly stil.
Sy neem die koevert wat hy uithou terwyl sy hom verbouereerd aanstaar. Wat
probeer hy sê? Nou weet sy sy moes daardie borsverkleiningsoperasie
ernstiger oorweeg het.
Sy draai weg. Sy wil nie hoor nie en sy wil ook nie daardie groen oë op
haar liggaam voel nie. Dit veroorsaak ’n snaakse gevoel op haar maag.
“Dankie. Ek sien jou Maandag.”
Sy stap doelgerig in die rigting van die huis. Sy is skaars ’n paar tree weg
toe sy hom hoor prewel: “Hardloop maar weg. Niks gaan aan die feit
verander dat ek en jy nog baie gaan speel nie.”
Sy dreigement bly in haar kop. Sy hoop nie hy bedoel wat sy dink nie en sy
hoop nie sy het meer aangepak as wat sy kan hanteer nie.
“Jy moet versigtig wees.” Kylie kyk verbaas na haar ma wat op die stoep
staan. Wat is dit vandag dat almal haar onkant betrap?
“Wat bedoel Mamma?”
“Daardie man verorber jou met sy oë.”
Kleur stoot in haar wange op. “Ma! Dis die grootste nonsens!”
Haar ma lig ’n beterweterige wenkbrou. “Miskien, maar ek dink ek ken
mans beter as jy. Hy staan al ’n ruk daar en hou jou dop soos ’n valk wat ’n
smaaklike muis gesien het. En toe jy regop staan, was ek verbaas dat sy kyk
nie die gras aan die brand geslaan het nie.”
Kylie skud haar kop, maar haar ma glimlag net selfvoldaan.
“Jy was nog altyd so naïef oor hierdie goed. Wees net op jou hoede, ons
weet nie wie of wat hy is nie. Kom bestel vir ons tee, ek is op pad na ’n
kliënt, maar ek wil eers ’n ruk saam met jou kuier.”

Hans en Adriaan Malan, die personeelbestuurder, verwelkom haar en begelei


haar na haar kantoor. Sy lig ’n vraende wenkbrou toe hulle by die kantoor
langs dié van die besturende direkteur instap.
Hans verduidelik vinnig: “Alex het daarop aangedring dat jy sy ou kantoor
kry. Ek het ’n oop kantoor langs myne, maar dié blyk nie goed genoeg te
wees nie. Ek is egter in die gang af as jy my nodig het.” Hy beduie regs.
Sy sien terloops dat Alex se deur toe is. Sy wonder of hy daar is, maar wil
nie vra nie.
Sy bekyk die kersiehouttafel en leerstoele goedkeurend. ’n Skootrekenaar
lê langs ’n paar lêers. “Ek het die inisiatief geneem om inligting oor huidige
en toekomstige projekte vir jou beskikbaar te stel. Alex sal jou oor jou
verantwoordelikhede inlig,” sê Adriaan.
Sy glimlag vriendelik. Sy het onmiddellik van die jong blondekopman
gehou toe sy hom ontmoet het, sy sal maklik saam met hom kan werk. “Die
kantoor is pragtig. Baie dankie vir jou moeite.”
“Ons is regtig bly om jou hier te hê. Ons gaan jou nou los sodat jy kan tuis
raak. Alex is in Pretoria by ’n vergadering en sal later ’n draai hier maak.”
Kylie gaan sit op die leerstoel agter haar lessenaar. Sy besigtig eers die
uitsig uit haar kantoor voordat sy nuuskierig die lêers op haar tafel nadertrek.
Die baas is terug, is haar gewaarwording ’n ruk later toe die gebabbel van
die sekretaresses buite haar kantoor stil word. Sy onderdruk ’n lagbui toe sy
sien hoe van die vroue ongemerk hul grimering opknap en klere regtrek.
Haar afleiding word korrek bewys toe sy lang gestalte in die deur verskyn.
Hy het ’n donkergrys pak aan met ’n wit hemp en ’n blou das. Die baadjie
beklemtoon sy breë skouers en lang lyf. Gee die duiwel sy eer, gee sy toe, hy
maak ’n vrou se knieë lam. Gaan sy ook in die sinnelose gewoonte verval om
haar voorkoms gereeld op te knap?
Hy stap nader en lyk heel ingenome met homself. “Ek is bly jy was so
grootmoedig om tog ’n pos hier te aanvaar.”
Sy gee ’n onvroulike snork. Hy lag.
“Gun my die oomblik van glorie, ek glo nie ek gaan baie oorwinnings oor
jou smaak nie.”
Hy maak hom tuis op die kant van haar lessenaar. Sy stoot haar stoel
agteruit.
“My teenwoordigheid hier het niks met oorwinnings te doen nie.”
“En jy het geen sin vir humor nie, professor Visser.”
“Los net die nonsens en vertel my wat my posbeskrywing is.” Sy wil nie
hê hy moet haar terg nie, so iets skep ’n gemaklikheid wat sy tot elke prys wil
vermy.
Hy lyk ’n oomblik ontevrede, dan staan hy op en gaan staan met sy rug na
haar voor die venster.
“My sekretaresse is besig met die detailbeskrywing, maar waarop dit
neerkom, is die volgende: jy is die hoofbestuurder van alle nuwe projekte.
Tien projekbestuurders sal aan jou rapporteer en niks sal op ’n projek gebeur
sonder jou finale goedkeuring nie. Net ek sal vetoreg hê oor enige van jou
besluite en by implikasie beteken dit dat jy regstreeks aan my sal rapporteer.
Jy sal vrye magte vir besluitneming hê, maar ek moet altyd op die hoogte van
daardie besluite wees. Totdat ons ’n sekretaresse aangestel het, deel jy myne.
Intussen sal ons ook van jou kundigheid gebruik maak op huidige projekte tot
jy ten volle by nuwes benut word.” Hy draai om en kyk vraend na haar. “Dra
dit jou goedkeuring weg?”
Sy knik instemmend. “Al wat ek kan sê, is ek sien uit na die uitdaging.”
“Ek is bly.” Hy stap in die rigting van die deur en gaan skielik staan. Hy
draai stadig om en staar na die muur agter haar terwyl hy met sy hand deur sy
hare woel. Dan kyk hy na haar. “Kylie ...” Toe hy die uitdrukking op haar
gesig sien, korrigeer hy homself: “Jammer, professor Visser, wat ek nog
heeltyd probeer sê, is ek is jammer.”
Sy verstyf. “Vergeet van verskonings. Nie al die jammerte in die wêreld
sal vergoed vir wat jy my ontneem het nie.”
“Ek verstaan. As jy so voel, wat doen jy hier?” Sy stem is ysig.
“Ek moet kos koop en ’n huis betaal.” Sy kyk af na die lêer voor haar.
“Maak die deur agter jou toe.”
Hy beweeg nie en sy kyk hom veelseggend aan. Sy het nog nooit
vantevore dié emosie by hom waargeneem nie, maar sy herken woede
wanneer sy dit sien.
Hy staan nader. “Jy het my een keer te veel uitgejaag. Laat ons mekaar
goed verstaan, professor Visser, ek is nie die ondergeskikte hier nie. Ek sal
myself verskoon wanneer dit my pas!”
Die deur wat agter hom toeklap, gee haar nie kans om te reageer nie.

“So hoe was jou eerste dag by die werk?”


Kylie skep eers kos in voordat sy haar pa antwoord. “Interessant. Daar wag
groot uitdagings op my. Ek is besig om deur alle bestaande projekte te werk
en ek en Brian gaan môre die bouterrein van die nuwe winkelsentrum in
Midrand besoek.”
Haar pa sug. “Ai, ek gaan dit mis. Ek kan nie sien hoe gholf en boeke my
genoeg gaan besig hou nie.”
Elnette frons ergerlik. “Jy het belowe jy neem my op ’n toer deur Europa.”
“Rustig, my meisie. Ek het nie van my belofte vergeet nie. Gaan praat met
’n agent en tref die reëlings, ek sal by jou planne inval.” Haar pa draai gretig
na Kylie. “En Alex, hoe kom julle oor die weg?”
Sy haal haar skouers op. “Dis te vroeg om te sê. Ek het nie veel van hom
gesien nie.” Kylie besluit om nie vir haar pa van die relletjie in haar kantoor
te vertel nie. Hy moet maar solank in sy miswolk skuil totdat sy hom met die
nodige feite kan konfronteer.
Elnette lê bitsig ’n eiertjie. “’n Mens sou sweer Einstein self het daar kom
werk soos hy aangegaan het.”
“Ekskuus?” Die onthutste woord glip uit voordat Kylie dit kan keer. Sy
hoef egter nie verder uit te vra nie, haar pa reageer ook op die vreemde
opmerking.
“Waarvan praat jy? Wanneer het jy met hom gepraat?”
Kylie herken die uitdrukking op sy gesig en sy neem ’n rustige sluk van
haar wyn terwyl sy wag op haar stiefma se antwoord. Grawe maar rustig jou
eie graf, stiefmoeder, is haar ingenome gedagtes, dan kan ek die stootskraper
kanselleer wat ek besig is om vir jou en jou liefste Alex te reël. En wees
gerus, ek sal persoonlik sorg vir ’n uitsonderlike grafsteen op my maatskappy
se koste.
Elnette vroetel ongemaklik met haar servet. “Ons het middagete saam
geëet.”
“Ek dag jy was by die haarkapper?”
“Ja, ek was, maar ná die tyd het ek gou ’n draai by die kantoor gemaak.”
“Wat het jy daar gaan doen?”
“Liewe hemel, Karel.” Elnette beduie verontwaardig met haar hande.
“Moet ek verduidelik hoekom ek jou kantoor besoek?”
“Ek sal dit nogal waardeer.” Sy koel stemtoon verklap dat hy nie sal ophou
totdat hy ’n verduideliking het nie.
“Ek het afskrifte gaan maak.”
“Afskrifte?” Haar pa spoeg behoorlik die woord uit.
“Kylie, sal jy my asseblief ná ete met my algebra help? Daar is iets
waarmee ek sukkel.” Al die koppe draai na Anja en kleur stoot in haar wange
op. Kylie sien deur haar poging om die plofbare situasie te ontlont en laat
haar begaan. ’n Saadjie is by haar pa geplant en sy sal later van geleenthede
gebruik maak om dit water te gee.
Vyf
Kylie sit haar broodjie wat in foelie toegedraai is op die tafel langs haar
vrugtesap neer en trek ’n kantienstoel nader. Haar gedagtes haak by
gisteraand se gesprek vas. Sy is heel tevrede met die verloop van gebeure.
Hopelik begin haar pa darem al die oranje lig sien.
“Mag ek by jou sit?” Sy sweer sy sal daardie stem tussen tienduisend
herken. Dis die enigste klank wat hoendervleislekkerte oor haar liggaam laat
beweeg. Sy kyk op in sy vraende groen oë en kan net knik terwyl sy verniet
probeer om die al groter wordende happie brood in haar keel af te kry. Sy
gryp na haar vrugtesap en neem ’n sluk. Die verligting om weer te kan
asemhaal, is wonderlik, maar van korte duur. In haar onbeholpenheid sit sy
die glas op die servet neer en hulle albei reik om te keer voor die glas kantel.
Sy vingers sluit om hare en lank nadat die glas regop is, word haar hand
vasgehou. Sy kyk verdwaas in sy ondeunde oë voordat hy ewe rustig sy hand
wegtrek en sy broodjie oopmaak.
“Wat dink jy van die Midrandprojek?”
Sy krap in haar kop rond vir ’n antwoord, maar sy lang vingers wat die
foelie oopmaak, oorheers haar gedagtes. Sy naels is kort en sy vingers breed
en lank. Dit verg nie veel van haar verbeelding om te dink hoe dit sal voel as
sy vingers oor haar vel gly ...
“Kylie?” Daardie selfde vingers word nou voor haar oë gewaai en sy sit
verskrik regop. Wat wou hy weet? Iets van Midrand. O ja, sy en Brian het
voor middagete daar inspeksie gedoen.
“Midrand ... ja, ek is tevrede met die vordering. Ek wil net seker maak ons
voldoen aan al die veiligheidsvereistes, maar ek sal ’n detailverslag voorberei
en môre vir jou gereed hê.”
“Uitstekend.” Hy neem ’n happie van sy broodjie en kou dit klaar voordat
hy voortgaan. “Gister was ’n onaangename begin tot ons werkverhouding. Ek
hoop ons kan in die toekoms ten minste soos volwassenes begin op tree. Niks
verander aan die feit dat jy kwaad is oor my aanstelling nie en dat jy iewers
gaan probeer om te bewys dat ek nie die vermoë het om die werk te doen nie,
maar kan ons tot dan miskien iets soos ’n wit vlag hys?”
Kylie oorweeg sy aanbod. Hierdie voorstel kan tot haar voordeel strek. As
hy sy waaksaamheid verslap, kan sy die kans gebruik om ammunisie teen
hom te versamel, en die beste plek om te begin, is deur ’n paar pertinente
vrae.
“Dit klink aanvaarbaar.” Sy neem ’n happie van haar broodjie terwyl haar
kop oortyd werk. Waar moet sy begin? “Waar het jy gewerk voor jy hier
begin het?”
“In my pa se besigheid.”
Die kort antwoord frustreer haar. “O? Watter soort besigheid het hy?”
“Ook konstruksie.”
Kylie onderdruk ’n glimlag. Hoe toevallig is dit nie? In dieselfde besigheid
as haar pa. Sy onthou so goed die een seun in haar privaat skool wat almal
ingelig het sy pa is in die vervoerbedryf totdat hulle per abuis agtergekom het
hy is ’n taxibestuurder en die seun kry ’n beurs om die skool by te woon.
Daarom kan sy nie help om die prentjie van die oompie in sy oorpak en sy
gehawende bakkie te sien wat afdakke en mure bou nie.
“Is jy ook ’n ingenieur?”
“Nee, ek het bestuursgrade.”
“Waar het jy my pa ontmoet?”
“Ek het vir Elnette in die kantoor kom kuier en in jou pa vasgeloop.”
Die legkaartstukkies begin in plek val. Seun uit arm huis en tikstertjie
ontmoet miljoenêr en wat is slimmer as om sy huis en sy kantoor oor te
neem? Die vraag is net wat beoog hulle met die strategie. Sy wonder benoud
hoe sy toegang gaan kry tot haar pa se persoonlike finansiële sake, want dié
was nog altyd ’n geslote boek vir sy kinders. Sy sal deur Hans die
maatskappystate kry en ’n ouditeur aanstel om daardeur te gaan.
Sy weet die maatskappyboeke hoef nie geoudit te word nie omdat dit ’n
privaat instelling is, daarom behoort bedrog makliker te wees. Intussen sal sy
deur die afgehandelde projekte werk in ’n poging om enige ongerymdhede op
te spoor. Vir die eerste keer voel sy op die spoor van iets tasbaars.
“Is daar fout met jou broodjie?”
Sy skud haar kop verbouereerd. “Nee ... hoekom?”
“Jy het nou net jou gesig getrek asof jy iets onsmaakliks geproe het.”
Voordat sy kan antwoord, lui sy selfoon en praat van die duiwel, met die
groetery hoor sy dat sy pa aan die ander kant is. Kylie kan nie help om die
eensydige gesprek noukeurig te volg nie. Inligting is mag.
“In die kantien.”
Hy frons. “Ja, ek sal die naweek kom kuier.”
Hy glimlag oor die reaksie. “Ek weet julle wil haar graag ontmoet, maar
julle sal moet geduldig wees.”
Kylie druk die foelie in ’n klein balletjie terwyl sy haar eie afleidings
maak. Het sy ouers nog nie vir Laurika ontmoet nie, of praat hy van iemand
anders?
“Ja, dis ’n goeie plan. Julle sal Karel moet nooi, ek glo nie sy sal sonder
hom kom nie.”
Praat hy van Elnette? Kan hy regtig so blatant wees om dit voor haar te
doen? Dink hy sy weet nie van die stories wat hier rondlê nie? Die broodjie lê
swaar in haar maag en sy drink die laaste slukkie sap.
“Beeldskoon. Julle weet my smaak is uitsonderlik.” Hy kyk reguit na haar
en sy wonder of hy haar gedagtes lees en haar nou koggel. Sy neem die
plastiekvurk langs haar bord en druk dit in die foelie in. Sy wonder terloops
hoe ’n mens kos met ’n plastiekvurk en mes kan eet. Hierdie saak moet
dringend aandag kry. Alex se gelag trek weer haar aandag.
“Ek belowe. Gee my net kans om op my eie te vorder.”
Hy lag weer oor die opmerking aan die ander kant. “Ek het nie hulp nodig
nie. As alles goed uitwerk, nie later as die einde van die jaar nie. Stuur liefde
vir Ma, ons praat later.”
Kylie staan op. Sy wil nie glo so ’n aantreklike man is so korrup nie, maar
dis seker niks nuuts nie. Sy sal dit as ’n feit moet aanvaar, en nog erger, dit
klink amper asof sy familie deel is van die komplot teen haar pa.
“Het die hof verdaag?” wil hy weet nadat hy die foon afgeskakel het.
Dronkgeslaan kyk sy na hom. Sy is gewoonlik skerp en dit frustreer haar
dat sy gedurig sukkel om sy gedagtegang te volg.
“Net voor die oproep ... dit het gevoel asof ek in ’n ondervragingsessie was
met jou ma, die advokaat.”
“Vreeslik snaaks.” Sy bekyk hom ondersoekend. “Het jy dalk iets om weg
te steek?”
“Geensins. Jy is welkom om my enigiets te vra net wanneer jy wil. Wat
van vanaand oor aandete?”
Kylie voel hoe woede soos ’n golf oor haar stoot. Die man is ongelooflik
arrogant! “Verskoon my, het ek reg gehoor ...” En dan het hy die
vermetelheid om verbaas te lyk oor haar reaksie! Hoe durf hy van die een
vrou praat, ’n getroude een daarby én haar pa se vrou boonop, en die
volgende oomblik ’n ander uitnooi vir ete. Die man is ’n losbol!
“Toemaar, professor Visser, jou gesig spreek boekdele. Ek verwag nie dat
jy so laag moet daal om saam met my uit te gaan nie.”
Hy beklemtoon elke woord en Kylie besef dat hulle terug is presies waar
hulle voor middagete was. Dit pas haar perfek, besluit sy terwyl sy wegstap.
Sy het ’n oordosis van onbetroubare mans in haar lewe.

Kylie sit die boek neer en beur orent in haar bed. Sy mors haar tyd, want sy
vorder nie verder as die eerste paragraaf nie. Haar gedagtes maal en tol soos
’n sementmenger.
Is Alex regtig korrup? Iemand met soveel sjarme en intelligensie hoef mos
nie die kortpad na sukses te kies nie? Hulle werk nou twee weke saam en
alles wat hy doen, selfs besluite wat hy neem, beïndruk haar oorkritiese
verstand. Daarom wil sy amper hoop sy en haar ma is op ’n dwaalspoor. Sy is
die eerste een wat sal erken haar mensekennis is beperk. Van berekeninge en
projeksies weet sy baie, maar bitter min van mense en hul motiewe. Miskien
is sy skielike verskyning heeltemal toevallig en sy verhouding met Elnette
heeltemal onskuldig.
Sy kon geen ongerymdhede by enige van die bouprojekte opspoor nie. Net
dat daar ’n dramatiese afname in besigheid was voor Alex se tyd. Daarna het
sake weer beter begin lyk.
Sodra sy ’n geldige rede het vir haar versoek, sal sy Hans vra om die state
vir haar te gee en dan moet sy nog uitwerk hoe om toegang tot haar pa se
bankrekening te kry. Iewers tussen al die inligting moet daar ’n antwoord
wees.
Intussen sit sy met ’n ander stryd in haar, ’n alewige stryd teen haar
irrasionele aangetrokkenheid tot die man. Sy moet haarself gereeld waarsku
om nie so oormatig ingestel te wees op sy teenwoordigheid nie. Voordat sy
haar kan keer, kom sy agter sy het die irriterende gewoonte aangeleer om
hom oral met haar oë te volg, hom alewig dop te hou wanneer hy praat, te
kyk hoe sy fassinerende kuiltjie in sy wang beweeg, die manier hoe sy lippe
woorde vorm, die ...
Aaargh! Vies gooi sy haar kussing dat dit die lessenaar tref. Sy wens sy
kan haar inhou! Sy tree regtig soos ’n bakvissie op.

Kylie kyk gesteurd na die gryskopvrou wat ongenooi haar kantoor binnestap.
Sy moet haar maandverslag voor etenstyd vir Alex gee, sy kan nie nou
onderbrekings bekostig nie. Veral nie met haar kop wat nog muf is van die
vorige aand se worsteling nie.
Die vrou sien haar gesigsuitdrukking en huiwer voordat sy begin praat.
“Doktor Visser, ek kan nie die aankope doen net op grond van u versoek
nie.”
Kylie frons. “Waarom nie?”
Die administratiewe bestuurder vroetel met die papiere in haar hand.
“Meneer Du Preez is die enigste persoon wat die uitgawe kan goedkeur.”
“Juffrou, jy mag dalk dink dat meneer Du Preez al die besluite in die plek
moet neem, maar jy is verkeerd ingelig. Ek is by magte om so iets goed te
keur. Koop jy net die eetgerei aan en sorg dat die raadsaal ingerig word om
etes te hanteer. Ek sal later na jou idees vir ’n nuwe spyskaart kyk. Dankie, jy
is verskoon.”
Kylie kyk die vrou agterna toe sy uitstap. Sy weier om met plastiekmesse
en -vurke te eet. Die swak gewoontes van die plek gaan verander.
Kort daarna stap Alex in haar kantoor in en leun teen die kabinet waar sy
na ’n lêer soek. Sy stoot die laai terug en draai na hom. Hy is gemaklik
geklee in ’n liggroen oopnekhemp en kakiebroek.
“Waarvoor het jy die eetgerei nodig?”
So, die vrou het die kortste pad na die baas toe gehardloop. Waarom
verbaas dit haar nie? Dit lyk vir haar alles in die plek begin en eindig by hom.
“Ek is nie gelukkig daarmee dat die bestuur in die kantien eet nie. Die
raadsaal kan met gemak ingerig word om ons te akkommodeer.”
Hy glimlag skepties. “Ons? Tussen wie gaan jy onderskeid tref? Net die
dosyn bestuurslede word toegelaat om uit kristalglase te drink terwyl die res
van die plebs in die eenvoudige kantien moet eet?”
Sy knik. “Ek het vermoed jy sal my idee afskiet. As ’n mens aan niks
gewoond is nie, vra jy nie veel nie.”
Sy is onmiddellik spyt oor haar nydige opmerking, maar gelukkig maak dit
geen indruk op hom nie. Hy lag net geamuseerd, sy kuiltjie diep in sy wang.
“Dis seker waar. Ons onopgevoedes is nie gewoond aan messe en vurke
nie, daarom is ons so dankbaar as daar net plastiek is.”
Hy steek amper terloops ’n hand uit en vee met sy duim oor die rand van
haar lippe. “Jou lipstiffie is gesmeer ...” Dan gaan hy voort asof niks gebeur
het nie, sy vingers nog strelend teen haar wang terwyl sy hom net verdwaas
aanstaar, haar hart in haar keel, haar knieë rubber. “Ek sal dit goedkeur, maar
jy moet besef jou besluit gaan jou baie personeel se gramskap op die hals
haal. En moenie verwag dat die ander bestuurders saam met jou in jou
verhewe areatjie middagete gaan eet nie.”
Sy tree buite sy bereik. “Dis jou mening. Ek verwag jou nie daar nie.
Mense wat aan beter gewoond is, dink dalk anders daaroor.”
Kopskuddend steek hy sy hande in sy sakke. “Soms kan ek nie glo dat jy
Karel se dogter is nie. Hy sou nooit so ’n voorstel gemaak het nie. Jy toon
darem baie van jou ma se eienskappe.”
Sy haal haar skouers op. “Ek is ewe veel albei se kind. My ma was net die
een wat my geleer het om aan beter gewoond te wees. En dis geen sonde
nie.”
Hy sê niks verder nie en stap net uit. Tot haar teleurstelling.

Kylie staar vies na die leë sitplekke rondom haar. Sy woorde het waar
geword. ’n Hele paar dae het verbygegaan sedert die raadsaal vir etes ingerig
is en almal eet nog in die kantien, asof dit die beste restaurant in die land is.
Wat is dit met mense? As jy vir hulle die geleentheid skep om in ordentlike
omstandighede te eet, gryp hulle dit nie aan nie.
Sy het al gewonder of Alex hulle nie verbied het nie, maar nêrens kon sy
haar vermoede bevestig kry nie. Die gedagte maak haar nog kwater. Veral
met die ander gedagte wat saam kop uitsteek – lê die fout nie dalk by haar
nie? Is sy nie dalk die verwaande een hier nie? Die een wat dink sy is beter as
ander? Die gedagte steek in haar keel vas.
Adriaan kom die raadsaal binnegehardloop.
“Weet jy waar Alex is? Ek soek dringend na hom!”
Sy haal haar skouers apaties op. “Seker in die kantien saam met sy
personeel.”
Adriaan vryf deur sy kort, blonde hare. “Nee, hy is al heeloggend uit en sy
sekretaresse weet nie waar hy is nie. Hy antwoord ook nie sy selfoon nie. Ek
het gehoop jy weet dalk.”
“Wat is fout?”
“Die konstruksiewerkers by die Langlaagte-bouprojek staak.”
Kylie kom vinnig orent. “Hoekom hoor ek nou eers hiervan? Wat is hul
rede?”
“Ek weet nog nie. Daarom soek ek Alex. Ons moet soontoe gaan om met
hulle te praat. Ek het ’n vermoede hulle word aangevuur deur die staking by
die opposisie.”
Sy gryp haar selfoon en handsak. “Ek kom saam met jou. Ons kan nie vir
Alex wag nie. Elke minuut wat ons wonder, verloor ons geld op daardie
projek en die projekbestuurder sukkel reeds om binne sy begroting te bly.
Juis daarom het ek daarop aangedring dat hulle langer ure werk.”
Hy huiwer. “Ek weet nie of dit so ’n goeie idee is nie.”
“Dis een van my projekte. Kom jy, of gaan ek alleen?”
Hy volg haar op ’n drafstap na haar bakkie.
Adriaan se selfoon lui toe hulle naby die bouterrein is.
“Alex!” Die verligting in sy stem is onmiskenbaar. Kylie kyk vies na hom.
Dink hy sy is onbevoeg om met stakers te onderhandel?
Hy lig Alex kortliks in oor die gebeure en dat hulle op pad is om die
situasie te hanteer. Dan gee hy die foon vir Kylie.
Sy knyp die foon tussen haar oor en skouer terwyl sy ratte verander. “Alex,
ek bestuur. Jy moet vinnig praat.”
“Jy bly weg daar. Ek is amper daar, ek is duskant Alberton. Julle moet vir
my wag.”
“Dis my projek en my werkers.”
“Vroumens, moenie nou hardkoppig wees nie! Jy het nie ’n idee hoe
oproerig stakers kan word nie. Kylie! Kylie!”
Sy sit die foon af.
Die foon lui weer en Adriaan antwoord. Kylie kan duidelik hoor hoe Alex
opdrag gee dat Adriaan haar daar weghou. Hy loer benoud na haar. “Ek sal
my bes doen.”
“Moenie eens probeer nie,” waarsku sy hom. “Ek laai jou hier af as jy
enigiets probeer. Niemand keer my om my werk te doen nie.”
’n Gelate Adriaan lewer geen kommentaar nie.
By die terrein laat sekuriteit hulle deur nadat sy haar personeelkaart gewys
het. Op ’n afstand sien sy die konstruksiewerkers met plakkate rondbeweeg.
Sy kan die gedreun van hul stemme hoor. Hulle klink nie baie gelukkig nie.
Koue rillings trek deur haar lyf. Sy het nog nooit so ’n situasie hanteer nie,
miskien oorskat sy haar eie vermoëns. Sy onderdruk die lafhartige gedagte
vinnig. Langs haar is Adriaan doodstil.
Die projekbestuurder stap nader toe hulle uit haar bakkie klim. Hy lyk
benoud.
“Doktor Visser, dis gevaarlik vir jou om hier te wees. Hulle sien jou as
deel van die probleem omdat jy aangedring het op langer werkure om die
projek te voltooi.”
Sy ignoreer sy opmerking. “Waar is die shop steward?”
Hy beduie na ’n lang donkerkopman wat strydlustig naderstap. Kylie
probeer die tatoeëermerke op sy fris arms miskyk.
Voor hy by haar kom, skree Adriaan waarskuwend. Kylie swaai haar kop
in die rigting wat hy beduie en dan voel sy hoe iets haar teen die voorkop tref.
Haar bene swik onder haar. Adriaan is vinnig byderhand om ’n
ondersteunende arm om haar skouers te plaas.
Sy leun effens teen hom terwyl haar bewerige hand druk waar sy die pyn
voel. Sy voel iets nats en verbaas staar sy na die bloed wat haar vingers
besmeer. Meteens oorweldig ’n naarheid haar en haar bene gee finaal mee.
Ver agter die gedruis in haar ore hoor sy bekommerde stemme en skreeuende
bande. Dan tel sterk arms haar op en sy kan net verdwaas na die wit hemp en
die breë bors voor haar staar. Alex se bleek gelaat en gloeiende groen oë kyk
op haar neer.
“Jou stupid, stupid vroumens! Ek het jou gewaarsku, maar jy weet mos
altyd beter!” Sy hees stem klink vreemd, amper angstig.
Sy woede bring haar tot verhaal. Sy beur heftig uit sy omhelsing sodat sy
op haar voete kan staan. Die omstanders staar haar met gemengde
uitdrukkings aan. Dis die spottende kyk van die werkersverteenwoordiger
wat haar terselfdertyd kwaad en verneder laat. Sy lyk soos ’n swakkeling! En
Alex vererger die situasie deur haar voor die personeel uit te trap.
Sy ruk los en stap na haar bakkie. Laat hy dan die gemors hanteer as hy so
bekwaam is! Sonder om terug te kyk, klim sy in en ry vinnig agteruit. Die
oorverdowende klank van brekende glas en staal is die laaste strooi. In haar
truspieëltjie sien sy die Porsche agter haar. Sy swenk regs en jaag weg.
Sy verdiende loon!
Haar selfvoldaanheid hou nie lank nie.
’n Paar kilometer verder bring sy die bakkie tot stilstand en laat haar kop in
haar bewende hande sak. Lank sit sy so terwyl sy daarop konsentreer om haar
ewewig te herwin.
Sy het te ver gegaan. Sy kan nie die waarheid vir haar analitiese brein
wegsteek nie. Hoe kon sy sonder beplanning ’n onbekende situasie aanpak?
Sy moes van beter geweet het. Hierdie werk word ’n harde leerskool vir haar
wat gedink het sy weet alles. Sy sal moet ophou om so beterweterig wees.
Sy klim uit. Haar bakkie het aansienlike skade aan die agterkant. Sy wil nie
eens dink hoe die Porsche lyk nie. Sy is in groot moeilikheid, maak nie saak
uit watter hoek sy die situasie probeer ontleed nie.
Sy klim terug en ry stadig kantoor toe. Sy kan nie langer wegkruip nie, sy
sal Alex om verskoning moet vra.
Sy vermy die nuuskierige blikke van die personeel. Die storie het seker al
hier geland. Alex se kantoordeur is oop en die lafaard in haar sluip verby.
Sy glip versigtig in haar kantoor in en druk die deur agter haar toe. Net
betyds onderdruk sy ’n gil toe sy omdraai en die lang figuur voor haar venster
sien staan wat haar berekenend dophou.
Alex is stroef en bleek. Sy kan hom nie blameer nie. Sy weet hoe mans oor
hul motors voel. Jonathan het vir ’n week nie met haar gepraat nadat sy die
Mercedes liggies gestamp het nie.
Gelate steek sy haar hande in haar broeksakke, haar oë op die grys mat
onder haar terwyl sy wag vir die skrobbering wat sy verdien.
Haar kop ruk op toe twee gedetermineerde hande haar teen hom vastrek.
Die kommer in sy oë is die finale breekpunt. Haar kop vind vanself ’n rusplek
in die warm holte van sy skouer. Sy bors beweeg onrustig teen haar wang.
Lank staan sy so tot sy nattigheid op sy hemp voel. En sy is een wat nooit
huil nie! Sy het groter geskrik as wat sy besef het. Sy beur weg, maar die
hande klem haar kop vas en toe sy weer ontspan, woel dit vertroostend in
haar hare. Stelselmatig word haar vlegsel losgemaak en oor haar skouers
versprei. Sy sug bewerig terwyl sy hom laat begaan. ’n Oomblik wil sy net sy
warm nabyheid, sy bekende reuk en die geborgenheid van sy arms geniet.
Die gedagte verbaas en verwar haar.
Sy tree effens uit die omhelsing. As sy langer so staan, beweeg sy dalk
nooit weg nie.
Sy ruk toe hy swets. Sy vingerpunte is vol bloed en hy staar geskok daarna.
Sy het vergeet van haar ligte kopbesering.
“Die swernote het jou beseer! As ek die een kry wat dit gedoen het ...”
Hy brei nie uit nie, maar die woede in sy oë bring ’n warmte in haar hart.
“Ons moet jou by ’n dokter kry.”
Sy skud haar kop. “Nee, dis nie erg nie. Jou kar ... ek is jammer oor jou
kar.”
“Dis niks, net ’n stuk staal wat weer reggemaak kan word. Jy het
seergekry ...” Toe sy die verdwaasde uitdrukking op sy gesig sien, beweeg sy
nader en laat sak haar kop teen sy bors. Sy omgee vernietig haar weerstand.
Sy arms vou styf om haar.
Lank staan hulle so totdat die deur oopgeruk word. Hulle beweeg weg van
mekaar.
Adriaan kom klaarblyklik niks vreemds agter nie, want hy praat dadelik.
“Alex, jy moet kom. Die unie is hier. Hulle wil met jou praat.”
Hy skud sy kop. “Kylie is beseer. Ek moet haar by ’n dokter kry, praat jy
met hulle.”
“Hulle is nie bereid om met enigiemand anders te onderhandel nie.”
Kylie sien die benoudheid in Adriaan se oë. Sy beduie vir Alex. “Gaan jy,
ek sal regkom. Ek sal oorstap na die verpleegster hier onder. Ek is seker dis
net ’n skrapie.”
Sy sien hoe hy sy opsies oorweeg.
“Ek sal haar vat.”
Adriaan se aanbod stel hom tevrede, want hy buig vorentoe en soen haar
liggies op die voorkop.
“Lig my so gou moontlik in wat die verpleegster sê. As jy hospitaal toe
moet gaan, sal ek jou vat, anders gaan jy reguit huis toe. Die naweek sorg jy
dat jy uitrus.”
Sy knik instemmend en staar die lang figuur agterna.

“Doktor Visser.” Kylie draai na Alex se sekretaresse wat haar aandag probeer
trek. “Meneer Du Preez het gevra dat jy na sy kantoor toe moet kom sodra jy
terug is.”
Kylie knik, maar stap doodluiters na haar kantoor toe. Hy kan wag. Sy het
’n uitputtende oggend saam met ’n onervare projekbestuurder agter die rug.
Sy het nie oortollige energie vir die dodelike kombinasie van Alex en haar
onstabiele emosies nie.
Ná haar besering het daar ’n wapenstilstand tussen hulle ontstaan. Hulle
werk professioneel saam met die minimum botsings. Die omhelsings in haar
kantoor is nooit bespreek nie. Soms kry sy die gevoel dat hy iets wil sê, maar
sy skep nie die geleentheid vir so ’n gesprek nie. Dit wat in sy kantoor gebeur
het, weer sy uit haar gedagtes. Sy is spyt sy het in ’n oomblik van swakheid
so opgetree. Sy kan dit nie bekostig dat daar iets tussen hulle ontwikkel nie,
daarvoor is daar te veel onbeantwoorde vrae. Sy het op die harde manier
geleer dat jy niemand kan vertrou nie, want dis die kortpad tot teleurstelling.
Al waarmee sy sukkel, is om afsydig te bly wanneer hy skielik in haar
rigting glimlag of per ongeluk aan haar raak. Daarmee het sy so te sê vrede
gemaak. Haar kop gaan klaarblyklik nie aan haar liggaam voorskryf nie.
Sy sit haar skootrekenaar op die lessenaar neer en neem die laaste sluk van
die louwarm bottelwater terwyl sy haar vlegsel van haar natgeswete nek
wegstoot.
“Hans sê jy soek finansiële state?”
Geïrriteerd draai sy om. Kan hy haar ook nie net ’n bietjie beweegruimte
gun voordat hy aanval nie? Hy lyk koel en gemaklik en ... ja, erken dit maar,
verlammend aantreklik in sy grys pak. Sy trek haar natgeswete hemp van
haar bolyf weg. En sý lyk soos iemand wat die Dakar-rit onderneem het.
“Dis korrek, meneer Du Preez. Anja het dit nodig vir ’n klasprojek in
Bedryfsekonomie.” Dit het ’n paar dae geduur om dié verskoning uit te dink.
Haar ma het reeds vir haar die naam van ’n ouditeur gegee, nou kort sy net
die state. “Het jy ’n probleem daarmee?”
“Ja, ek het. Daardie inligting is vertroulik en mag nie eens in ’n klaskamer
bespreek word nie.”
“Wel, jammer vir jou, maar ek het dit vir haar belowe en as julle dit nie vir
my gee nie, dan kry ek dit deur my pa.”
Net sy weet dis ’n leë dreigement. Haar pa sal nooit die projekstorie glo
nie, daarvoor is hy te ingelig oor sy dogter se skoolwerk.
Hy kyk af op haar, sy groen oë deurdringend. “Moenie jou lyf hier probeer
rondgooi nie, doktor Visser. Ek let ook op dat jy deur ou projekte werk. Wat
is die rede hiervoor? Het jy nie reeds genoeg werk nie?”
Sy het die vraag lankal verwag en is gereed met haar antwoord. “Ek wil ’n
idee kry van die soort projekte waarby ons betrokke was sodat ek kan werk
aan projeksies vir toekomstige besigheidsareas.”
“Strategiese beplanning is my werk.”
Sy haal haar skouers liggies op. “Ek doen hierdie navorsing ná ure. Jy kan
my nie keer nie. Dit bly my pa se maatskappy wat eendag myne gaan word.”
Tot haar teleurstelling stry hy nie, verander net weer die onderwerp. “Hans
sê jy vergesel hom na ’n geselligheid Vrydagaand?”
Kylie onderdruk ’n kreun. Sy het amper daarvan vergeet, dit was deel van
die uitruiltransaksie. Wat moet ’n vrou ook nie vir die groter saak opoffer
nie? “Dis korrek. Het jy ook daarmee ’n probleem?” Sy lig haar wenkbroue
vraend.
’n Gevaarlike lig verskyn in sy oë en Kylie tree versigtig terug totdat haar
lyf aan die lessenaar raak. ’n Mens weet nooit waartoe die man in staat is nie.
“Ek het ’n sake-ete gereël wat jy moet bywoon.”
“Regtig? Met twee dae kennisgewing moet ek jou ongelukkig inlig dat dit
my nie pas nie.”
“Ons sal sien.” Hy draai om en loop uit.
Vyftien minute later lui Kylie se foon.
Hans klink kwaad. “Ek sal ons afspraak moet kanselleer. Die baas het my
nou net opdrag gegee om Kaapstadkantoor te oudit en ek sal eers Sondag
terug wees. Kan ons dit ’n ander keer maak?”
Kylie maak al die regte geluide en glimlag ingenome toe sy die foon
neersit. Bravo vir jou, Alex du Preez, jy dink jy wen dié enetjie, maar het ek
nuus vir jou: jy toon swak beplanning. Sy trek ’n lêer nader en loer na die
toegangkodes vir die rekenaars wat die rekenaarnerd vir haar gegee het nadat
sy net mooi geglimlag en gesê het haar pa het dit nodig.
Met Hans in Kaapstad en Alex by sy sake-ete sal sy vrye toegang tot die
maatskappy hê terwyl ’n sekere man dink sy lê in die bed met ’n
maagaandoening.
Ses
Vrydag ná middagete stuur Kylie ’n e-pos aan Alex met die verskoning dat sy
vroeg huis toe gaan omdat sy siek is en daarom nie sy ete kan bywoon nie. Sy
kon in elk geval geen werk gedoen kry nie. Angs laat haar maag draaie maak.
Sy glo nie sy het die regte persoonlikheid om speurwerk te doen nie.
Die gedagte aan haar arme pa bring haar egter later die aand terug kantoor
toe. Net die sekuriteitswag is aan diens, daar is geen motors in die parkade
nie en Kylie glimlag tevrede. Sy kon nie ’n beter aand gekies het nie.
Toe sy Hans se kantoordeur agter haar toemaak, lê sy ’n oomblik daarteen
terwyl sy die vertrek in oënskou neem. Oral lê lêers en papiere en sy kan net
wonder hoe hy in sulke chaos werk.
Dan stap sy na sy lessenaar en skakel die rekenaar aan. Sy sug verlig toe
die kodewoord haar toegang bied. Alles wat moontlik bruikbaar lyk, laai sy
op haar geheuestiffie.
Toe stap sy na Alex se kantoor toe. Sy kom gereeld in die kantoor, maar
dink skielik daaraan dat dit presies soos in haar pa se tyd lyk, dieselfde
lessenaar en meublement. Die kantoor was veronderstel om hare te wees. Dit
maak seer.
Tot haar teleurstelling bied sy rekenaar niks van waarde nie. Sy is egter nie
verbaas nie, want sy sou nie verwag ’n gesoute misdadiger los
vingerafdrukke nie. Sy begin ’n soektog deur sy lessenaarlaaie. Moedeloos
trek sy aan die onderste laai. Gesluit. Vir die eerste keer raak sy opgewonde.
Miskien lê die antwoord hier. Sy oorweeg dit om die laai met die briewemes
oop te dwing, maar besluit liewer nie. So iets sal agterdog wek en sekuriteit
weet sy is hier. ’n Idioot kan die nodige afleidings maak.
Uit die hoek van haar oog sien sy sy aktetas, effens verskuil agter sy stoel.
Snaaks dat hy dit nie saamgevat het nie, maar sy kla nie. Haar hande bewe
terwyl sy die tas oopmaak. Eureka! ’n Bos sleutels lê daar asof dit daar vir
haar gelos is. Sy kry die regte sleutel met die eerste probeerslag.
Uitgelate reik sy na die lêer in die laai. Miskien is die speurbesigheid nie
so moeilik nie, dink sy selfvoldaan.
Dronkgeslaan staar sy na die foto’s en e-posse wat sy die afgelope paar
jaar vir haar pa gestuur het. Waarom is afskrifte van haar e-pos hier
toegesluit? Alles is in ’n ligte trant geskryf oor haar ervarings by haar
verskillende projekte. Sy ken nie haar pa as iemand wat uit sentimentele
redes so iets sou hou nie. En waarom het Alex nie daarvan ontslae geraak
nie? Haar teleurstelling is egter veel groter as haar verwarring. Sy is niks
wyser nie. Sy sit die lêer en sleutels terug. Wat nou?
’n Selfoon lui buite die deur. Nie hare nie, dring dit tot haar deur, dié is in
haar broeksak. Sy vlieg orent. O, hemel, dit mag nie Alex wees nie! Hy is
veronderstel om kliënte met sy sjarme te oorrompel. Waar kan sy skuil? Die
vensters bied geen uitkoms nie. In die flieks is daar darem gordyne, maar hier
is net blinders.
Die deur gaan stadig oop en sy hoor Alex oor die foon praat.
Hy stap binne nadat hy die gesprek beëindig het, sy selfoon nog in sy hand.
Sy groen oë vernou toe hy haar sien.
Nonchalant leun Kylie teen die lessenaar. Haar hart klop in haar keel en sy
sukkel om lug in haar longe te kry. Tog klink haar stem normaal toe sy
gemaak vriendelik uitroep: “Wat ’n verrassing! Ek dag jy is besig om ons
kliënte te onthaal.”
“Wat doen jy hier? Ek dag jy is siek?” Sy uitdrukking is onleesbaar.
“Ek was, maar my ma het die wonderlikste kuur gehad wat sy my gevoer
het en toe besluit ek om die Midrand-lêer kom haal en ’n bietjie daarop te
werk. Ek het gehoop dis in jou kantoor.” Kylie besef sy babbel, maar sy kan
haarself nie keer nie. Sê nou net hy kom agter dat sy iets soek? Wat sal hy
dan doen? Sy wil nie eens aan die moontlikheid dink nie. Sy moet nou net
kophou.
“Ek het dit gister vir jou teruggegee.”
Sy stem is gelykmatig en sy slaak heimlik ’n sug van verligting. Hy toon
geen teken van wantroue nie en haar liggaam begin ontspan. Krisisbestuur
het pas vir haar nuwe betekenis gekry.
“O ja, nou onthou ek. Ek sal gou weer in my kantoor kyk.” Sy kom orent,
heel tevrede met haar hantering van die situasie, maar voordat sy ’n tree in
die rigting van die deur en vryheid kan gee, blokkeer hy haar met sy lyf. Sy
kan nie verbykom nie. Ag nee, tog nie weer nie! Sy staar hom vies aan terwyl
haar hart woes in haar keel klop. Sy wil nou net wegkom, hy moet dit nie vir
haar moeilik maak nie.
“Hoekom lyk jy so skuldig?” Nou lyk hy agterdogtig en sy sluk benoud.
“Jy verbeel jou. Ek het jou net nie verwag nie. Ek is alleen hier en het
geskrik toe jy so skielik hier opdaag.” Sy probeer aan sy regterkant
verbykom, maar hy beweeg saam met haar. “Meneer Du Preez, laat my
verbykom! Watter speletjie speel jy nou weer?” Sy skuil agter woede. Sy
hoop nie hy kan die bewing in haar stem hoor nie.
Hy glimlag en sit albei sy hande op die lessenaar agter haar. Hy was nog
nooit so naby en so groot nie. Kylie verwag om enige oomblik te
hiperventileer.
“Wanneer ek enige van my vrouepersoneel so laat in my kantoor kry, kom
ek gewoonlik agter dat hulle speletjies wil speel.”
“Jy is ongelooflik arrogant!”
“Nee, net gelukkig.”
Sy sien hy terg, maar sy kan nie ’n afkeurende geluid verhoed nie.
Hy verdedig sy stelling. “Daardeur sê ek nie dat ek altyd saamspeel nie.”
“Dis goeie nuus. Ek kan dus aanvaar jy wil nie nou speel nie en sal my laat
gaan.”
“Slegte nuus, ek wil speel.” Hy fluister die woorde terwyl hy ’n groot hand
om haar gesig vou. Haar knieë wil onder haar padgee en sy moet konsentreer
om nie te wys watter effek hy op haar het nie.
“Het jy geweet seksuele teistering in die werkplek is ’n oortreding?”
“Het jy geweet dit geld net wanneer een van die partye nie gewillig is nie?”
Hy tree effens weg en lig sy hande op. “En kyk, ek keer jou nie om die
vertrek te verlaat nie ... as jy wil?”
Kylie wens sy kon die uitnodiging aanvaar. Sy is net ’n mens. Wat sal die
irrasionele deel in haar nie gee om net een keer in sy omhelsing te vergeet
wie hulle is en daardie sensuele mond op hare te voel nie terwyl daardie lang
vingers oor haar liggaam streel, toegespits daarop om haar behoeftes te
bevredig en sy ...
“Kylie, Kylie, kom terug. Ek het jou weer iewers verloor.” Sy registreer
nie onmiddellik nie, want dit verg baie selfdissipline om uit haar dagdroom
terug te kom na die koue realiteit van wie hy is. ’n Egbreker en moontlik ’n
bedrieër en o, hemel, hoe wens sy nie hierdie goed het nie vir haar saak
gemaak nie.
“Liewe hemel, ek vra jou nie om te kies vir die oorlewing van die
mensdom nie. Ek wil net weet of daar ’n wedersydse aangetrokkenheid
tussen ons is waarop ons kan voortbou of nie?”
Kylie luister afgetrokke na sy woorde. Sy wens hulle het mekaar in ’n
ander tyd op ’n ander plek ontmoet. Sy stap stadig by hom verby. Sy weet nie
wat om te sê nie, want as sy eerlik is, is daar nie ’n klinkklare antwoord nie.
Miskien eendag, wanneer sy al haar antwoorde het.
“Wat bedoel jy hy weier om die uitgawes goed te keur?” Kylie vlieg uit haar
stoel en Hans retireer vinnig.
“Die projek is oor die begrote bedrag en hy verwag julle moet net die
noodsaaklikste uitgawes aangaan.”
“En hoekom sê hy dit nie self vir my nie!”
“Seker omdat dit in ’n oorlog ontaard as julle met mekaar praat.”
Kylie gaap hom aan. “Moenie belaglik wees nie. Waar kom jy aan die dom
idee?”
Hans sug en vroetel met sy das. “Kylie, die hele maatskappy kla oor julle
optrede en die paar keer dat ek saam met julle in ’n vergadering was, het
niemand anders ’n woord ingekry soos julle probeer om mekaar dood te praat
nie. Ek weet julle hou nie van mekaar nie, maar selfs vir my raak dit ’n bietjie
belaglik.”
“Belaglik?” Die pen in haar hand tref die lessenaar en beland op die vloer.
Hans buk om dit op te tel, maar sy stop nie haar tirade nie. “Daardie man
dissekteer elke voorstel wat ek maak en begrawe dit daarna. Watter
regdenkende mens kan so iets aanvaar en haar mond hou?” Sy ignoreer die
pen wat hy na haar uithou en hy sit dit versigtig op die lessenaar neer.
“Julle is besig om die werkomgewing in ’n slagveld te verander. Julle
floreer dalk op ’n alewige stryery, maar ek verseker jou ons is keelvol
daarvoor. Adriaan het my gevra om dit met jou te bespreek, maar ek wou nie
my kop in die bynes steek nie.”
“Wel, dankie vir niks. Niemand skryf aan my voor nie.”
Moedeloos steek hy sy hande in sy sakke en kyk vies na haar. “Jy is nou
kwaad vir my en dis presies hoekom ek nie betrokke wou raak nie. Kom ons
vergeet daarvan.” Hy probeer ’n vertroostende hand op haar skouer sit, maar
sy trek weg. “Jy het gesê jy sal nog een of ander tyd saam met my uitgaan,
wat van vanaand?”
“Jy skuld my nog daardie finansiële data.” Kylie besef sy moet
konsekwent in haar versoeke bly, anders kan hy agterdogtig raak.
Hy stap na die venster en tuur voor hom uit. “Alex sal my nek omdraai as
ek dit vir jou gee, jy weet dit.”
“Hy hoef nie te weet nie. Dis tog net vir ’n skoolprojek.”
Hans draai om, maar vermy haar blik. “Oukei, ek sal dit aanstuur solank jy
belowe Alex kom dit nie te hore nie. Sal jy dan vanaand saam met my gaan
eet?”
Sy stem in. Sy wag ongeduldig vir die ouditeur om terug te rapporteer,
want sy sukkel self om in hierdie omstandighede saam met Alex te werk. Dis
ook vir haar moeilik om te erken dat Hans reg is. Sy weet hul verhouding het
erg versuur nadat hy haar in sy kantoor betrap het. Soms is sy spyt dat sy nie
die uitnodiging aanvaar het nie, en ander kere is sy dankbaar sy het nie. As
daar iemand is wat sal seerkry, dan is dit net sy. Hul verhouding is reeds te
kompleks om dit nog met ’n liefdesverhouding te bemoeilik. En dan, in haar
frustrasie gaan sy Alex net uit beginsel teë, en waar hy haar vantevore laat
begaan het, redekawel hy deesdae terug. Hoe gouer hy uit haar lewe is hoe
beter vir haar en almal om haar.
“Sal ek jou so seweuur kom haal?”
“Maak dit agtuur, ek wil eers by die gimnasium uitkom.”

Kylie hardloop die stoeptrappies twee-twee op. Sy het net ’n halfuur om te


stort en aan te trek voordat Hans opdaag.
Sy draf die ingangsportaal binne, maar word tot stilstand geruk toe sy die
mense in die sitkamer sien. Dit duur ’n rukkie om tot verhaal te kom. Wat
maak almal hier? Elnette se afkeurende blik en die ongeduldige frons op haar
pa se voorkop maak haar bewus van die prentjie wat sy moet vorm in haar
natgeswete oefenklere terwyl hul gaste redelik formeel aangetrek is.
Een besondere paar geamuseerde groen oë laat haar krulhare omtrent
kroes. Laurika, ingehaak by Alex, groet vriendelik.
“Verskoon my ’n oomblik, ek wil gou met my dogter praat.” Haar pa neem
haar aan die arm en stoot haar subtiel na die aangrensende vertrek.
“Wat het ek nou verbrou?” wil sy gelate weet.
“Het ek jou nie die naweek gesê Elnette verjaar en dat ek ’n paar gaste
oornooi nie?”
“O ...” Kylie onthou meteens die gesprek van Saterdagoggend. Die enigste
moontlike verskoning wat sy kan aanbied, is dat sy besig was om deur ’n
kontrak te werk en dat haar aandag nie by die gesprek was nie. Of was dit toe
Alex weer in die tuin besig was? Kan haar pa ook nie meer ’n voltydse tuinier
bekostig wat behoorlik geklee is nie? Sy wil nog met hom daaroor praat. Sy
sweer Alex treiter haar omdat hy weet sy hou hom dop.
“Ek sal bly wees as jy verklee en by ons aansluit. Aangesien Elnette die
eregas is, verwag ek van jou om gasvrou te speel.”
“Ek en Hans gaan nou uiteet.”
“Hans?” Hy kyk ontstig na haar.
“Ja, hoekom? Het Pappa ’n probleem daarmee?”
”Ek het nog nooit aan jou voorgeskryf oor jou metgeselle nie, maar
Hans ... ek is nie mal oor die idee nie.”
Voordat sy hom oor die vreemde opmerking kan uitvra, stap Elnette in.
Kylie rammel vinnig ’n verskoning af. “Ek is jammer ek het jou verjaardag
vergeet. Baie geluk.”
“Dankie. Karel, nog gaste het opgedaag en hulle vra na jou,” lig sy hom in.
“Ek kom.” Hy draai na Kylie. “Ek sal Hans bel en vra dat hy by ons
aansluit. Ek verwag jou binne ’n halfuur.”
Gelukkig voel sy meer op haar gemak toe sy later by die gaste aansluit. Sy
weet haar geel aandrok vertoon haar figuur op sy beste, want Jonathan het
soos ’n seekat geword wanneer sy dié rok aanhet en sy moes net vir ’n vale
keer vir sy hande oor haar lyf. Waar sy gewoonlik probeer om klere te kies
wat haar bates onderbeklemtoon, doen die rok die teenoorgestelde. Nie dat sy
iets aan iemand wil bewys nie, troos sy haarself. Haar blonde hare is steeds
onder in ’n vlegsel, maar ’n losser, deurmekaar massa bo.
Sy hou ’n veilige afstand tussen haar en Alex. Dis nie nou die plek vir hul
onderonsies nie. Haar antenna is sekuur ingestel op sy teenwoordigheid en
sodra hy en Laurika naderbeweeg, verskuif sy na die volgende groep, maar
dis maar moeilik met net agt pare in die geselskap.
Haar pa wink haar in ’n stadium nader waar hy alleen met Alex gesels.
“Voordat ek vergeet, Hans het gesê hy sal verkies om nie by ’n
familiegeleentheid op te daag nie, hy sal julle afspraak na ’n ander dag skuif.”
Kylie knik. Sy het van Hans vergeet.
“Terwyl julle albei hier is, wil ek weet wat aan die gang is?”
Kylie is die onskuld self toe sy haar pa vraend aankyk. Alex antwoord nie,
neem net ’n sluk van sy drankie.
“Wat bedoel Pappa?”
“Jou gesigsuitdrukking verraai jou, Kylie. Jy het presies so gelyk die dag
toe jy die kombuis afgebrand het ná een van jou vele eksperimente en daarna
kwansuis van niks geweet het nie. Ek moet julle eerstens die nodige
erkenning gee. Deur my vier huwelike het ek nog nie die vermoë soos julle
twee ontwikkel om op dieselfde erf te bly en mekaar heeltyd te vermy nie.
Julle moet my regtig julle geheim vertel.”
Kylie skud net haar kop oor haar pa se spitsvondigheid. Hy draai na haar
en sy lees in sy oë dat sy in die moeilikheid is.
“Dra jy die skuld vir die aanhoudende rusies tussen julle? Oral waar ek
gaan, hoor ek daarvan.”
“Dis net meningsverskille, niks ernstigs nie.” Haar vreedsame aanslag
word egter in die wiele gery deur die glimlag op Alex se gesig. Sy kuiltjie is
prominent en sy ken teen die tyd die tekens – hy dink die situasie is baie
snaaks. Sy besluit daar en dan om nie verder doekies om te draai nie. “As
Pappa dan so graag wil weet, hy is die een wat elke voorstel wat ek maak,
hanteer asof dit die irriterende gebabbel van ’n kind is.”
“Jy oordryf.” Alex se stem is sag maar beslis.
“Watter voorstelle het hy nie aanvaar nie?”
“Ek wil ’n projek in die agtergeblewe gemeenskappe begin waar ons huise
vir hulle bou en terselfdertyd die eienaars in vakmanskappe oplei. Ons het ’n
soortgelyke projek suksesvol in Suid-Korea uitgevoer.”
“Soos ek aan jou verduidelik het, dis ’n idealistiese voorstel en onprakties.
Ons het nie nou die kapasiteit vir so ’n projek nie. Ons kan ook nie die risiko
loop om te belê waar ons geen waarborg het dat ons ons geld sal terugkry
nie.”
“Wat van ons gemeenskapsverpligtinge? Waar kom dit in?”
Haar pa onderbreek hulle. “Ek moet met Alex saamstem. Die maatskappy
het nie reserwes om enige mislukkings te dra nie. Miskien wanneer dit weer
beter gaan, kan ons daaroor praat, maar dan bly dit uitsluitlik Alex se
besluit.”
Kylie is egter nog ver van klaar met die argument. “Wat van die
voorlegging van die tender vir die winkelsentrum in Pretoria wat jy verwerp
het?”
“Jou projeksie was nie korrek nie en ek het jou gevra vir ’n nuwe een, wat
ek tot nou toe nie ontvang het nie. Liewe hemel, Kylie, gaan jy elke afkeuring
persoonlik opneem?” Vir die eerste keer lyk hy ongeduldig.
“Ek het jou nie toestemming gegee om my op my voornaam te noem nie,”
lig sy hom in. “En ek neem nie besigheid persoonlik op nie.”
Van die gaste draai nuuskierig na hulle.
“Alex is reg, los asseblief persoonlike gevoelens uit die werksopset. Ek
vind dit ook besonder kinderagtig dat hy jou nie op jou voornaam mag
aanspreek nie. Word groot, Kylie.”
Kylie staar haar pa verslae aan. Hoeveel keer gaan hy nog vir hierdie
bedrieër kant kies?
Sonder ’n verdere woord draai sy om en storm by die vertrek uit. Gedaan
gaan sit sy op ’n leunstoel in haar pa se studeerkamer. Sy is so moeg vir
hierdie bakleiery, sy is nie gewoond aan sulke onenigheid in die werkplek
nie.
“Was dit nodig?”
Onthuts staar sy na Alex wat by die vertrek instap en met sy hand deur sy
hare vee. Hy lyk moedeloos.
“Ekskuus?”
Hy kom staan voor haar. Net sy glinsterende groen oë wys sy woede. “Was
jou optrede regtig nodig? Elnette is geskok oor jou optrede en is verneder
voor haar vriende.”
Sy tik onrustig op die stoel se armleuning. “Wie gee jou die reg om my in
my ouerhuis aan te spreek?”
“So moeilik soos dit vir jou is om te sluk, ek is net so welkom om my
mening in hierdie huis te lug soos enigiemand anders. Ek is ten minste nie die
een wat jou pa en sy vrou in die verleentheid plaas nie.”
“Miskien sal dit help as jy nie met jou klagtes na my pa toe hardloop nie.
As jy nie die maatskappy en sy personeel effektief kan bestuur nie, gee die
werk vir my.”
Hy lag, maar sy kan sien hy is nie geamuseerd nie. “Droom maar voort, my
meisie, ek weet hoe om ’n temperamentele vroumens te hanteer.”
Kylie gee ’n snork van minagting. Temperamenteel is die laaste woord wat
haar beskryf. Dis hierdie man voor haar wat die skuld moet kry vir haar
onvoorspelbare buie.
“Ek verwag dat jy Elnette om verskoning vra.”
Kylie weet nie wat haar die meeste grief nie – die feit dat hy so ’n absurde
eis stel, of dat hy vir Elnette opkom. Sy sit haar hand voor haar mond en
maak asof sy gaap. “Gaan verveel iemand anders met jou belaglikhede,
meneer Du Preez.”
Sy kom nonchalant orent, maar word onkant betrap toe hy vorentoe
beweeg. Sy val terug en word gevangene gehou deur sy hande wat die
stoelleunings vasklem. Sy kneukels vertoon wit teen die donker leer. Sy
briesende blik is naby hare, sy kan die goue spikkels in sy oë sien. Kortasem
en verskrik staar sy hom aan.
“Ek sweer jy sal my na moord dryf.” Sy stem is gevaarlik laag en haar lyf
word die ene hoendervleis. Hy hurk voor haar en steek sy hand uit. Toe sy
vingers om haar nek klem, snak sy hoorbaar na haar asem. Sy ervaar ’n
vreemde ineensmelting van skok en ekstase toe sy hand eers stram en dan
strelend oor haar nek beweeg. Met die kortsluiting wat in haar liggaam
plaasvind, sukkel sy om op sy sagte woorde te konsentreer.
“Ek glo nie jy het ’n idee hoeveel respek ek vir jou kundigheid het nie. Ek
het gehoop ons kan by mekaar leer en as ’n span saamwerk. Wanneer gaan jy
my ’n regverdige kans gun en nie jou pa se besluit teen my hou nie?”
Sy kan hom net magteloos aanstaar. Wat moet sy daarop antwoord? Sy
protesteer nie toe hy haar kop nadertrek nie. Sy lippe rus op haar hare. Daar is
niks sags of toegewends aan sy soen nie. Sy hoor verstom die kreungeluid in
haar keel, en haar protesterende hande vind ’n tuiste in sy sagte hare.
Uiteindelik, is die versugting van haar hart. Sy lippe is warm, soekend, en hy
smaak soos die verbode vrug, wild en soet.
Hy maak hom eerste uit die omhelsing los. Hulle staar mekaar in stilte aan,
net hul onreëlmatige asemhaling is hoorbaar. Dan staan hy stadig op. Toe hy
weer wil praat, hoor hulle haar pa in die gang roep.
Hy verskyn in die deur. “Ons gaan aansit vir ete, kom julle?” Hy kyk hulle
ondersoekend aan.
Kylie kom orent. Sy vermy enige oogkontak toe sy by die vertrek uitstap.
Sewe
In die eetkamer het die gaste al gaan sit. Laurika beduie na die plek lang haar.
Kylie wil eers die uitnodiging ignoreer, maar toe sy die meisie se afwagtende
gesiggie sien, gaan sit sy langs haar.
“Jy wou nie eerder langs Alex sit nie?” wil sy weet.
“Glad nie. Ek wil graag met jou gesels.”
Kylie sit effens agteroor terwyl die kelner die wyn skink. Uit die hoek van
haar oog sien sy Alex en haar pa instap. Hulle gaan sit weerskante van
Elnette aan die ander punt van die tafel. Nadat hy ’n tafelgebed gedoen het,
beduie haar pa dat die kos bedien moet word.
Kylie loer ongemaklik na die meisie langs haar. Sy wonder of Laurika
steeds so vriendelik sou wees as sy weet wat pas in die studeerkamer gebeur
het. Onwillekeurig gaan haar hand na haar lippe. Dit voel effens geswel. Haar
blik dwaal na die ander kant van die tafel. Alex is in gesprek met Elnette,
maar asof hy kan voel dat iemand na hom kyk, draai hy sy kop en hulle kyk
mekaar in die oë. Kylie laat vinnig haar hand sak en kyk na Laurika wat met
haar praat.
“Ek wou lankal vir jou kom hallo sê, maar ek het nog nie die moed gehad
nie. Jy lyk altyd so besig.”
Kylie vou haar servet oop en sit dit op haar skoot. Laurika volg haar
voorbeeld. “Werk jy ook vir my pa?” wil sy verbaas weet.
Laurika glimlag. “Jare al. Ek en Elnette het dieselfde dag begin.”
“Jammer, maar ek het nie eens geweet nie, anders sou ek lankal ’n draai
kom maak het. Is jy ook ’n sekretaresse?”
“Nee, ’n boekhouer. Ek werk in Hans se afdeling.”
“Dis interessant. Ek moet erken ek kom min daar, daarom het ek jou seker
nog nie raakgeloop nie.”
“Doktor Visser ...”
“Noem my asseblief Kylie.”
“Ek en Elnette bewonder jou baie.”
Bewonder? Elnette en Laurika? Dis die laaste ding wat sy verwag het om
te hoor. “Ek verstaan nie.”
“Dis net, jy is so slim en nog mooi ook. Elke loslopende man by die werk
is omtrent verlief op jou. En dan is jy nog gelukkig om in so ’n huis gebore te
word, met so ’n fantastiese pa soos joune, om nie eens van jou ma te praat
nie. Ek het nog nooit so ’n pragtige vrou gesien nie, en sy is so ... so
afgerond. Ons het dit nooit gehad nie.”
“Waar het jy grootgeword?”
Laurika glimlag skaam. “Die verkeerde kant van Pretoria. My ouers was
baie arm, my pa het as sekuriteitsman gewerk en my ma was ’n skoonmaker
by ’n hotel in die stad. Ons het hulle maar min gesien en ek en my boetie was
meestal op ons eie. Daarom sukkel ek nogal om by sulke deftige mense soos
julle in te skakel. Ons het op die beste van tye net brood en konfyt geëet en
daarom weet ek nie aldag van die regte tafelmaniere nie. Ek probeer heeltyd
leer, maar ek maak nog gereeld ’n papie van myself. Soos nou die dag met
die wyn.”
Sy bloos en vroetel ongemaklik met die servet op haar skoot. Kylie kan
sien sy wil nog iets sê en wag vir haar om voort te gaan. “Ek het gewonder of
jy my dalk ’n bietjie meer van die goed sal vertel. Ek wil nie heeltyd vir Alex
vra nie, dit lyk so dom. Dis natuurlik as jy kans kry.”
“Natuurlik. Dis min dat ons ’n volle vyfgangmaaltyd soos nou die dag het,
maar ek sal my ma vra dat sy ons oornooi vir die hele proses. Tussen ons sal
ons jou gou touwys maak.”
“Ek sal dit vreeslik waardeer.”
“So hoe lank gaan jy en Alex uit?”
Laurika se glimlag verstar. “Ons gaan nie regtig uit nie. Ek vergesel hom
net nou en dan na ’n geselligheid. Ek het vanaand alleen gekom. Elnette het
my genooi omdat ons goeie vriende is. Alex het van die begin af gesê daar
kan niks meer tussen ons wees as vriendskap nie, maar tipies vrou, hoop ek
maar altyd dat ek hom verkeerd kan bewys. Ná die vorige ete het hy gesê
daar is iemand anders. Dink jy dis oor my swak tafelmaniere daardie aand?”
Kylie verstik amper in haar wyn ná die vloedgolf woorde. Hoekom het sy
nie net haar mond gehou nie? Haar nuuskierigheid oor Alex het haar in die
vreemde situasie van biegmoeder geplaas. Wat moet sy sê? Sy is die een wat
die meeste oor sy motiewe wonder. Weet Laurika nie van die stories oor hom
en Elnette nie? “Ek kan nie dink hy sal so kleinlik wees nie.”
“Kylie, kan jy nie met hom praat nie? Hy hou so baie van jou. Ek is seker
hy sal na jou luister.”
Kylie hou haar hande in die lug. “Hokaai! Jy verwag nou te veel van my.
Jy moet jou ook nie oor een man se optrede ontstel nie, daar is baie ander
oulike ouens.”
Laurika sug moedeloos. “Daar is net een Alex. Ek kon nooit droom dat so
’n man in my sou belang stel nie. Hy is so ’n fantastiese ou. Hy kuier in my
ouers se eenvoudige huisie asof hy in sulke omstandighede grootgeword het.”
Het hy nie? wil Kylie amper vra, maar sluk haar opmerking saam met ’n
happie van haar nagereg weg. Laurika stoot haar nagereg in haar bordjie
rond. Dis duidelik dat haar gedagtes nie by die kos voor haar is nie.
“My kêrels het altyd snedige opmerkings gemaak oor my ouers se
goedkoop meubels of hoe klein hul huisie is, maar hy vertel my gereeld
watter gawe mense my ouers is. Hy het selfs eenkeer sonder my daar gaan
kuier. Mense wat uit ryk huise kom, is gewoonlik sulke snobs.”
Kylie verstik in haar sjokoladenagereg en in die proses stamp sy haar wyn
om. Die witwyn spat oor die damastafeldoek tot op haar rok. Eers ná ’n paar
hoesbuie kan sy weer behoorlik asemhaal. Haar pa kyk fronsend in haar
rigting en Laurika staar haar verbouereerd aan.
“Ek is jammer, ek het dit nie so bedoel nie. Ag, hemel, Kylie, dis net my
swak maniere. Jy is nie regtig ’n snob nie.”
Kylie glimlag bedees en staan op sodat die huishoudster die wyn kan
opvee. “Moenie verskoning maak nie, ek weet jy het dit nie so bedoel nie.
Dis miskien net my skuldige gewete wat so ’n reaksie veroorsaak het. As jy
my sal verskoon, ek wil net die skade aan my rok gaan herstel. Ek is bang die
wyn kom nie weer uit nie.”
Kylie stap stadig na die gastebadkamer. Haar laaste bekommernis is die
kolle op haar duur rok. Laurika se woorde het haar baie gegee om oor na te
dink.
Sy leun teen die marmerblad en staar na haar beeld in die spieël sonder om
dit regtig te sien. Hoe vanselfsprekend aanvaar sy nie alles wat sy het nie, so
asof dit haar goeie reg is. Om ’n prentjie van die wêreld deur Laurika se oë te
kry is nogal ’n openbaring.
Sy moet dit maar erken, sy het ’n goeie klap snobisme weg en eintlik is sy
veronderstel om net dankbaar oor haar bevoorregte omstandighede te wees.
Het sy Alex nie onmiddellik as ’n tuinier aangesien en op hom neergesien
nie? Het sy nie dieselfde met Laurika gedoen toe sy haar onkunde oor wyn
getoon het nie? En hoe onregverdig was haar gedagtes nie? Laurika is ’n
oulike meisie, miskien ’n bietjie onseker, maar iemand wat sy graag beter wil
leer ken. Alex is briljant, laat sy dit maar erken, en hoewel sy hom nie vertrou
nie, verander dit nie die feit nie. Hoe sy werklik oor hom voel, nou ja, dit is
sy nog nie gereed om te ontleed nie. Wat sy wel bereid is om te doen, is om
haar benadering tot mense aan te pas. Dit mag moeilik wees omdat dit so
ingeoefen is, maar sy gaan probeer.
En ’n goeie plek om te begin is by haar pa se nuwe vrou. Sy vertrou haar
miskien nie, en dit kan nie anders met die stories oor haar en Alex nie, maar
sy sal dit eers probeer vergeet en vir haar pa se onthalwe na haar uitreik. As
sy Kylie se optrede onaanvaarbaar gevind het, dan verdien sy ’n verskoning.
Sy buk oor die wasbak en vee liggies met ’n spons oor die wynmerke op
haar rok. Gelukkig is dit witwyn, daar behoort geen blywende skade te wees
nie.
Sy het so lank weggebly dat die eetkamer leeg is toe sy terugstap. Sy tref
Elnette en haar pa by die voordeur aan waar hulle die laaste gaste afsien.
“Ek wou nog vir Laurika groet,” sê sy teleurgesteld.
Haar pa lyk ontevrede en sy het ’n sterk vermoede dit het met haar optrede
te doen. “Wat het jy vir Laurika gesê wat haar so omgekrap het? Ek het vir
Alex gevra om haar huis toe te neem. Ek sal môreoggend reël dat haar
motortjie vir haar gevat word.”
“Niks nie, Pappa, ek verseker Pa. Dis dalk iets wat sy vir my gesê het
waaroor sy ontsteld was.” Sy draai na Elnette wat die gesprek met ’n effense
frons volg. “Ek is regtig jammer as jou verjaardag deur my optrede bederf is.
Dit was definitief nie moedswillig nie.”
“Dis oukei. Almal vind dit net onsmaaklik as jy en Alex so stry. Soos jy
seker weet, werk die meeste van my vriende saam met julle en hulle het ’n
oordosis van julle onderonsies gehad.” Elnette praat verbasend rustig en
Kylie kan haar net verleë aanstaar. Sy weet sy is skuldig.
“Ek is regtig jammer. Kan jy miskien Laurika se nommer vir my gee? Ek
wil net seker maak sy is nie nog omgekrap nie.”
Kylie stap na buite terwyl sy die nommer skakel. Laurika antwoord nie. Ná
die derde probeerslag gee sy moed op. Huiwerig stap sy om die huis na die
woonstel. Moet sy vir Alex wag om te hoor hoe dit met Laurika gaan, wonder
sy, of moet sy dit eerder net los? Sy verwag nie ’n vriendelike ontvangs nie,
nie ná die laaste paar kere se kopstampery nie en sy is nie nou lus vir baklei
nie, veral nie met hom nie. Daarvoor is sy vanaand te moeg. Mismoedig gaan
sit sy op die swaaibank waar sy hom en Laurika dopgehou het.
Miskien kom hy nie terug nie.
Sy sit regop. Die gedagte maak snaaks genoeg seer. Dan onthou sy Laurika
se woorde. Daar is niks tussen hulle nie. Sy wil glo dis waar.
Sy sit gemakliker op die sagte kussings terwyl sy die bank ritmies heen en
weer swaai en sug tevrede.
Wat sou sy nie gee nie om elke aand hier te sit met die donker hemelruim
en vonkelende sterre bo haar en die naggeluide as geselskap terwyl sy wag
vir daardie spesiale man in haar lewe. Dis aande soos dié dat sy ’n geliefde in
haar lewe mis. Sy wil so graag haar gedagtes met iemand deel. Vanaand se
gebeure het ’n groot indruk op haar gemaak.
Sy het nog nooit vir iemand van haar onstuimige kinderjare vertel nie. Sy
wonder waarom sy nou daaraan dink. Dit was vir haar redelik traumaties om
tussen haar ouers te moes kies, ’n onvermydelike gevolg van die onplesierige
egskeiding. En asof dit nie genoeg was nie, was hul metgeselle nooit mal oor
haar nie. Hulle het haar as ’n bedreiging vir haar ouers se aandag beskou. Sy
moes ook hard werk om aan albei ouers se botsende verwagtings te voldoen.
Dit was ’n moeilike tyd. Die aard van haar ouers se liefdesverhoudings het
haar ook geleer om nie te vertrou nie, en daarom is sy nie bereid om haar
toekoms goedsmoeds in iemand anders se hande te plaas nie.
Sy maak haar oë toe. Al dié gedagtes put haar uit. Sy wil net nou
afskakel ...

Sy word bewus van ’n hand wat strelend deur haar hare beweeg. Haar kop rus
teen ’n bewegende kussing. Sy wil dieper woel, maar dit gee nie mee nie. Sy
skuif effens weg en kyk op in Alex se groen oë. Wanneer het sy haar teen sy
bors tuisgemaak? Sy sitlê teen hom, sy arm is om haar skouer en sy hand
strelend in haar hare. Iewers moes haar vlegsel losgekom het, want haar hare
hang wanordelik oor haar skouers. Asof in ’n dwaal staar sy na hom.
Hy glimlag effens voordat hy saggies prewel: “My amasoneprinses, altyd
aan die baklei. Weet jy hoe heerlik dit is om net ’n ruk in jou geselskap te
wees sonder om myself te hoef verdedig?”
Sy sit regop, nou heeltemal wakker. Toe skuif sy na die verste hoek van
die bank. “Hoe lank is jy al terug?”
Hy vou sy arms en tuur die donkerte in. “’n Uur of wat.”
Sy kan dit amper nie glo nie. Hoe is dit moontlik dat sy amper ’n uur in sy
arms kon lê sonder om dit agter te kom? Dan onthou sy die rede vir haar
besoek. “Laurika, is sy oukei?”
Hy knik. “Ja, ek dink so. Sy was bang dat sy jou beledig het. Ek het haar
verseker dat jy nie so maklik aanstoot neem nie. Ek hoop ek was reg.” Hy
kyk stip na haar.
Sy knik. “Ek moet loop.”
Sy beur orent, maar hy keer haar met ’n ferm hand op haar skouer. “Bly
nog ’n rukkie hier by my. Asseblief?”
Sy sak agteroor en ontspan. Hy sit nou teen haar, sy boarm skuur teen hare.
Stil staar hulle na die hemelruim.
“Ek wou in ’n stadium ’n sterrekundige word,” verbreek sy die stilte. “Net
nadat ek die planetarium vir die eerste keer besoek het.”
“Wat het jou van plan laat verander?”
Sy glimlag by die gedagte. “My ouers wou amper iets oorkom. Albei het
groter drome vir my gehad.”
“Is jy spyt oor die rigting wat jy ingeslaan het?”
Sy skud haar kop. “Nee, darem nie. Soos ek gesê het, dis in my gene. Ek
glo nie ek sou ooit gelukkig gewees het as ek iets anders gedoen het nie. Self
nie eens regte soos my ma gehoop het nie.”
“Is jy gelukkig?”
Sy kyk verbaas na hom. “Dis ’n snaakse vraag. Natuurlik is ek gelukkig.”
Hy sê niks.
Sy glimlag gelate. “Wel, meestal.” Sy erken dit teësinnig, maar skielik wil
sy nie voorgee nie. “My pa het my van kleins af belowe ek kry sy
maatskappy. Ek kon nie glo toe ek hoor dat hy ’n vreemdeling aangestel het
nie.”
“Ek is jammer.” Hy vou sy hand om hare.
“Ek weet. Dit maak nie meer soveel saak nie.”
“Hoekom gaan jy my dan nog heeltyd teë?”
“Ek weet self nie.” Sy sug en staar na hul ineengestrengelde vingers. “Ek is
drie keer vandag daaroor aangespreek. Ek begin sleg voel.”
Hy draai na haar. “Jy kan dit regstel.”
“Hoe?”
“Deur my nie nou teë te gaan nie.”
Sy weet wat kom en sy wíl haar nie teësit nie.
Sy lippe rus eers sag op hare, dan eis hy haar oorgawe. Haar mond gaan
oop onder syne, haar hande sluit om sy nek. Sy hande woel in haar hare, trek
haar nog nader. Die geluide om haar word vaag, al waarvan sy bewus is, is
die soetheid van sy lippe, die hardheid van sy spiere onder haar strelende
hande, die warmte van sy liggaam teen hare.
Van ver af hoor sy haar pa se stem. Hy roep na haar. Teësinnig beweeg sy
uit die omhelsing en staan op. Haar bene is wankelrig en sy leun teen die kant
van die stoel. “Ek moet loop.”
Hy staan op en vou sy hande om haar gesig. “Wat nou?”
Sy staar na sy lippe naby hare. Wat moet sy sê? Moet sy haar vertwyfeling
ignoreer en hom ’n kans gee?
Hy streel met sy duim oor haar lippe. “Ek wil jou môre sien. Iewers waar
ons alleen kan wees.”
Sy sug. Sy gaan selfsugtig wees en rede ignoreer. “Kom haal my ná
middagete. Ek is die hele oggend by my ma.” Sy beweeg nader, hul lippe is
teen mekaar, eers tentatief, dan gulsig. Haar asem jaag toe sy wegtrek. “My
pa wag vir my.” Haar stem klink vreemd, amper hees.
“Ek stap saam met jou.”
“Nee, dis oukei. Ek sal jou môre sien.” Sy voel sy oë op haar toe sy
wegstap.

Haar gesprek met haar ma die volgende oggend bring haar terug na die koue
werklikheid. Die ouditeur vermoed daar is onreëlmatighede in die
maatskappy se finansies. Wat dit presies behels, weet hy nog nie, daarvoor
het hy meer inligting nodig. Dis ook in die stadium onmoontlik om te sê wie
daaragter sit.
Verdwaas blaai Kylie deur sy verslag. Is Alex betrokke? As dit nie hy is
nie, wie dan anders? Sy het so gehoop ...
Sy onderdruk die gedagte vinnig. Hierdie beslissing mag tot haar voordeel
strek.
“Ek weet nie hoe ek hierdie inligting gaan kry nie. Die ouditeur wil
regstreeks toegang tot die stelsel hê en ek kan dit nie bewerkstellig nie.”
“Dis moeilik,” stem haar ma saam. “Ek stel voor ons konsentreer eers op
jou pa se persoonlike geldsituasie. Ek ken sy bankier baie goed. Hy behoort
ons dalk te help as ek hom van ons bekommernis vertel.”
Kylie skud haar kop gelate. Sy besef sy kan Alex nie vanmiddag sien nie.
Met die huidige feite voor haar sal sy glad nie normaal kan optree nie. En sy
het so uitgesien na die tydjie saam met hom. Hoekom het sy haarself mislei
deur te glo dat daar ’n eenvoudige antwoord op haar bekommernis is?
“Mag ek maar die res van die naweek hier bly? Ek is seker Mamma het
ekstra klere en ’n tandeborsel vir my?”
“En dié impulsiewe besluit?”
“Ag, ek is net lus om saam met Mamma te kuier.” Sy weet sy kies die
lafaard se uitweg. Iewers sal sy hom moet konfronteer, maar sy is nie nou
gereed daarvoor nie. Veral nie ná gisteraand nie. Sy sal ’n SMS stuur en dan
haar foon afskakel. Hopelik kry hy die boodskap en los haar uit.
Agt
Voordat sy haar handsak kan neersit, stap Alex in haar kantoor in. “Hoekom
het jy ons afspraak gekanselleer en net verdwyn?”
Sy hou haar oë op sy geel das gerig. As sy in sy oë kyk, kan haar
voornemens dalk soos mis voor die son verdwyn. Sy het die hele naweek
gewonder wat sy vir hom moet sê. Sy was nog nooit bang vir konfrontasie
nie, maar vir die eerste keer is sy onseker oor hoe sy moet optree. Moet sy
hom vertel van die ouditeur se bevindings? Kan sy dit waag, of moet sy eers
net stilbly en sien wat nog uitkom? Hoe verduidelik sy dan Vrydagaand se
gewilligheid? Skielik het sy nie woorde nie. “Meneer Du Preez ...”
Hy steek sy hand afwerend in die lig. “Toemaar. Jou formele houding sê
genoeg. Ek is nie dom nie, ek kry die boodskap.”
Sy waag dit om op te kyk toe hy wegstap. Sy rug is na haar gekeer, sy
hande in sy broeksakke. Sy wit hemp span oor sy breë skouers en vir een
wonderlike oomblik onthou sy weer die gevoel van die spiere onder haar
hande, die honger van sy lippe op hare ...
Sy bal haar vuiste.
“Ek wil jou sommer nou inlig dat Elnette volgende Maandag weer hier
begin werk. Sy sal in die kantoor langs Hans wees.”
Kylie skud haar kop om van die wasigheid ontslae te raak. “Sekretaresses
het nie ... hulle het nie eie kantore nie?”
Hy stap na die deur en kyk oor sy skouer. “Nie as sekretaresse nie. As
bemarkingsbestuurder.”
Skok bring haar tot voor hom. Sy beduie met haar hande.
“Bemarkingsbestuurder? Dit maak glad nie sin nie. Sy het geen ervaring in
bemarking nie. Al wat sy kan bemark, is die jongste haarstyl of naellak. Wat
sê my pa daarvan? Dit kan nie sy goedkeuring wegdra nie.”
Hy draai om, sy gesig is effens bleek. Hierdie keer kan sy nie sy blik
vermy nie, hy pen haar vas met sy oë. “Jy is ’n intellektuele snob, professor
Visser. Wanneer iemand nie soveel grade soos jy agter haar naam het nie, is
sy in jou oë minderwaardig. Snaaks dat jy nog nie my kwalifikasies
bevraagteken het voordat jy so laag gedaal het om vir ’n kort rukkie my
attensies toe te laat nie. En ja, jou pa was aanvanklik nie gelukkig met die
idee nie, hy glo sy vrou hoef nie te werk nie, maar sy het hom oortuig dis wat
sy wil doen en hy aanvaar dit so.”
Opnuut hoor sy die aantyging oor snobisme, maar snaaks genoeg maak dit
vir die eerste keer regtig seer omdat dit oor sy lippe kom. Haar voornemens
was goed, sy het gepraat voordat sy gedink het. Die moedswillige deel in haar
kan egter steeds nie net aanvaar dat daar ’n pos vir Elnette geskep word
omdat sy skielik ’n belangstelling in bemarking het nie. Besigheid werk nie
so nie, al is sy die baas se vrou. En watter rol speel die vriendskap tussen
Alex en Elnette in die besluit? “Ek het my kwalifikasies en poste bekom deur
harde werk, nie deur gunste en gawes van my bestuurders nie.”
“Vir jou inligting, hier is nie sprake van gunste nie. Elnette is besig met
haar honneursgraad in bemarking en dit alleen maak haar bekwaam vir die
pos. Ons ken mekaar goed en daarom weet ek ons sal kan saamwerk.”
“Hoekom word ek nou eers oor die nuwe pos ingelig?”
Hy skud sy kop. “Jy bly vergeet, ek is in beheer hier en hoef jou nie oor elk
van my besluite in te lig nie. Wat gaan aan met jou, Kylie? Hoekom gaan jy
so te kere oor Elnette? Was jy nog altyd so jaloers op jou pa se vroue?”
“Dis nie dit nie.”
“Nou wat is dit dan? Ná Vrydagaand het ek gedink ons het uiteindelik
gevorder. Toe kry ek jou SMS en jy kruip by jou ma weg, antwoord nie jou
foon nie. Jou optrede is onvoorspelbaar en om die minste te sê lafhartig. Ek
weet nooit waar ek met jou staan nie.”
Sy kwetsende woorde plaas haar op die verdediging. “Daar is niks vreemds
aan my optrede nie. Vrydagaand was net ’n lyflike oomblik wat ek later
berou het. Ek is geneig om maklik meegevoer te raak, maar gewoonlik is ek
kort daarna spyt oor my optrede. Jy moet dit nie persoonlik opneem nie, dit
gebeur gereeld.”
“Ek verstaan.”
Nee, wil sy sê, jy verstaan glad nie. Vir my eie oorlewing moet ek iets
voorgee wat ver van die waarheid is. Ek kan nie toegee aan dit wat besig is
om tussen ons te ontwikkel nie. Jy kan vir my te belangrik word en wat doen
ek as jy net ’n bedrieër is?
Hy draai om. “Verskoon my, ek het ’n afspraak. Ek sal dit waardeer as jy
my later vanoggend kom spreek sodat ons deur ’n paar kontrakte kan werk.”
Kylie vou haar bewende hande oor haar warm gesig. Haar liggaam en
emosies voel asof hulle deur ’n wringbuis geforseer word. Sy wil hom
terugroep sodat hulle kan praat oor wat sy vermoed en hoor of hy dit nie
ongedaan kan maak nie. Sy bly stom staan. Sy moenie uit die oog verloor dat
Elnette volgende week hier begin werk nie. Dan sal hy seker weer sy aandag
verplaas.

Later die oggend soek sy vir Laurika. Sy het haar nog nie in die hande gekry
nie en sy moet seker maak dat die meisie weet sy is nie kwaad oor haar
opmerking nie.
Sy kry haar in die kantoor langs Hans s’n.
Haar gesig helder op toe sy Kylie sien. “Doktor Visser!” Kylie se
waarskuwende kyk laat haar haarself vinnig korrigeer. “Kylie, ek is so bly
om jou te sien. Ek voel al die hele naweek sleg oor my opmerking en ek het
nie geweet hoe om dit reg te stel nie.”
“Daar is niks om oor sleg te voel nie. Ek weet jy het nie na my verwys nie,
en al het jy, hinder dit my nie. Ek moet soms die waarheid hoor en ek
waardeer eerlikheid by my vriende.”
“Beskou jy my as ’n vriendin?” Laurika lyk verbaas.
Kylie glimlag. “Hoekom nie? Ek hou van jou en ek hoop jy hou van my.
Dit gaan nie noodwendig beteken dat ons hier oor en weer gaan kuier nie, ek
is ongelukkig te besig daarvoor, maar ná werk is jy welkom om ’n draai te
maak. Ek hoop om oor twee naweke in my huis in te trek en as jy lus is en
tyd het, kan jy my kom help.”
“Ek sal graag help. Met Elnette wat nou getroud is, het ek nie meer iemand
saam met wie ek goed kan doen nie.”
“Wonderlik. Ons praat weer later.”
“Kylie, voordat jy loop, daar is iets anders. Alex was gister by my.”
Kylie draai stadig om. “En ...”
“Hy was in ’n vreemde bui. Amper mismoedig. Dit was asof hy
ongelukkig was oor iets, maar hy wou my niks vertel nie. Weet jy dalk wat
fout is?”
Kylie ontwyk Laurika se blik. “Nee, hoekom sou ek? Jy weet seker ons
sukkel om oor die weg te kom.”
“Dis waar, ek het so gehoor.” Sy staar peinsend na die lêer voor haar en
sug diep. “Ek wens soms ek het dit so maklik soos Elnette. Die oomblik toe
sy jou pa sien, het sy geweet hy is die man vir haar. Sy het altyd vir my gesê
sy wil met ’n ouer man trou, iemand met lewenservaring en wat haar soos ’n
prinses sal behandel. En toe kry sy hom. Sy aanbid jou pa omtrent en ek kan
dit nogal verstaan, hy is so ’n sjarmante man. Net soos Alex.”
Kylie probeer nie haar verbasing wys nie. Elke gesprek met Laurika raak
’n nuwe openbaring. Laurika se siening weerspreek haar idee van Alex en
Elnette. Sy sal mooi hieroor moet gaan dink.
“Ek moet loop, ek het ’n vergadering. Sien jou later.” Sy stap uit met ’n
warboel gedagtes wat deur haar kop maal. Sake raak by die dag komplekser.

Kylie stap verby Alex se kantoor. Die deur is toe en sy kan Elnette se
opgewonde stem hoor. Elnette werk nou twee weke hier en sy is heeldag in
sy kantoor. Sy het in ’n bestuursvergadering voorgestel Elnette se lessenaar
word na die CEO se kantoor geskuif aangesien sy meestal daar is. Net Hans
het gelag, en ook nie vir lank nie.
Sy skink koffie uit die perkoleerder in haar kantoor en gaan staan voor die
venster. Die tuin is ’n mengelmoes van kleure. Somer is haar
gunstelingseisoen. Haar emosies weerspieël gewoonlik dieselfde opwinding
om te leef. Sy weet nie hoekom sy deesdae so terneergedruk voel nie.
Miskien het dit te doen met die koudheid wat sy die laaste paar weke naby
Alex ervaar. Net Elnette beloon hy met sy kuiltjieglimlag. Hy bevraagteken
nie meer haar besluite nie, gee haar ook nie erkenning wanneer sy ’n taak
suksesvol afhandel nie. Dis nie asof sy heeltyd komplimente soek nie, maar
Elnette ontvang lofprysings wanneer sy ’n eenvoudige nuusbrief opstel en sy
kry nie eens ’n dankie ná die multimiljoenprojek wat sy bekom het nie.
Sy neem ’n sluk van die bitter koffie. Sy is nie jaloers nie, maar liewe
hemel, genoeg is genoeg. Elnette is haar pa se vrou. En sy gee nie om wat
Laurika sê nie, die verhouding tussen die tweetjies is net te gemaklik. Sy
moet erken sy het die laaste ruk die interaksie tussen haar pa en sy vrou fyn
dopgehou en hulle lyk tog soos twee verliefdes. Kan ’n mens heeltyd
voorgee? Miskien, hoe sal sy nou weet, sy wat sukkel om voor te gee dat sy
onverskillig teenoor Alex staan.
Adriaan stap haar kantoor binne. Sy kan sien hy is in ’n kuierbui, want hy
maak hom op een van haar leunstoele tuis asof hy nie werk het nie.
“So, hoe gaan dit hier?” wil hy weet.
“Geen klagtes nie.”
“Ek hoor jy trek die naweek in jou huis in. Kan ek help?”
Kylie sit haar koppie neer en skuif agter haar lessenaar in. “Nee, dankie,
Laurika gaan my help en die binneversierder doen die meeste werk. Ek het
niks behalwe my klere en ’n paar persoonlike goed uit Amerika saamgebring
nie.”
“Sjoe, so ’n binneversierder moet jou ’n paar rand kos.”
Haar ouers het daarop aangedring om ’n gedeelte by te dra as ’n
huisinwydingsgeskenk, maar haar persoonlike sake bly privaat. “Nie regtig
nie.”
“So, wanneer kan ek kom kuier?”
“Ek beplan om een of ander tyd ’n klein geselligheid te hou. Ek sal jou laat
weet.”
“Is ek ook genooi?” wil Hans by die deur weet. Hy maak hom op die punt
van haar lessenaar tuis.
“Miskien.” Sy hou haar stem afsydig.
“Die baas is seker nie genooi nie. Ons is maar te bly oor die wapenstilstand
tussen julle twee, maar ons vrees dis die voorloper tot die volgende
wêreldoorlog. Gelukkig hou jou pa se vrou hom so besig, hy kry nie tyd om
met jou te baklei nie.”
’n Ongemaklike stilte daal neer en Kylie oorweeg nog haar teregwysende
woorde toe sy agterkom die mans se aandag is nie op haar gerig nie, maar op
haar deur.
Alex leun met gevoude arms teen die kosyn, op die oog af ontspanne, maar
niemand kan die uitdrukking in sy groen oë miskyk nie. Adriaan wip uit die
stoel en Hans word effens bleek.
“Het julle twee nie werk nie?” Sy bruusk opmerking kry die twee mans in
beweging en hulle storm by hom verby. Hy stap tot voor haar en kyk
ontevrede op haar af.
“As jy nie genoeg het om jou mee besig te hou nie, laat my gerus weet. Ek
sal nog werk na jou delegeer. Dan sal daar nie tyd wees vir kuier saam met
die manspersoneel nie.”
“Hoor wie praat. Elnette is heeldag in jou kantoor.”
“Jy het ’n obsessie oor haar en lyk my Hans ook. Hoekom hou jy nie van
haar nie? Sover ek weet, is sy ’n baie goeie vrou vir jou pa.”
Sy kom orent. Nou is sy te na aan hom, maar te trots om te retireer. “Dis
nie dat ek nie van haar hou nie, ek kan net nie insien waar jy die tyd kry om
die maatskappy te bestuur en haar hand nog heeldag vas te hou nie.”
“Kyk na die state en sê dan vir my ek is ’n swak bestuurder. Die
maatskappy het die grootste wins in sy geskiedenis. En jy moet ophou om
Elnette as ’n bedreiging te sien. Ek stel nie belang in getroude vroue nie en
daarby het ek te veel respek vir jou pa om enigsins aan sy vrou te vat, as dit is
wat jy impliseer.”
Sy kan hom amper glo as sy nie van beter geweet het nie. Die state vertrou
sy nie, en Elnette ...
“Waarom bring jy so baie tyd saam met haar deur, glo in die verlede en
nou steeds agter geslote deure? En wat van die aand toe sy jou in haar
slaapklere ontvang het?”
Hy lag bitter. “Nou maak baie goed sin. Dis waarom almal hier ons altyd
so aanstaar. Julle glo ons het ’n liefdesverhouding. Jy dink nie veel van my
nie.”
Sy het nie ’n eerlike antwoord daarop nie. Sy sou graag die ander feite wou
noem, maar sy kan nie bekostig om haar hand te oorspeel nie.
Hy pen haar met sy oë vas. “Ek gaan jou een maal oor Elnette inlig, en dan
moet jy my woord aanvaar, of verwerp. Ons ken mekaar sedert kinderjare.
My ouers het tydelike toesig oor haar gekry toe haar ouers nie vir haar kon
sorg nie. Sy is vir my soos ’n suster. Ons het nog nooit ’n seksuele
verhouding gehad nie en sal ook nie. Die tyd wat ek saam met haar in die
verlede deurgebring het, was om haar te help met haar studie. Jou pa het dit
aanvanklik nie goedgekeur dat sy verder studeer nie. Juis daarom het sy haar
studie in die geheim aangepak. Ek het haar gehelp met haar werkstukke. Dis
al. Jy mag dit miskien teen my hou dat ek jou pa se besluit teëgestaan het,
maar nooit dat ek ’n verhouding met haar het nie. Ons werk nou aan ’n
bemarkingsplan. Aangesien daar nog niks vantevore was nie, vereis dit baie
van my tyd. Dis die volle verhaal.”
Verligting spoel deur Kylie. Alles wat hy sê, maak soveel sin. Sy wil hom
glo, maar die inligting wat by die ouditeur is, hoe gaan hy dit verduidelik? Sy
kan nie vra nie, maar dalk is daar net so ’n goeie verduideliking daarvoor. En
dalk is hy nie die skuldige nie.
“Ek is bereid om bemarking aan jou oor te gee as jy ongelukkig is oor die
baie tyd wat ons saam deurbring.”
Kylie weet nie hoe om die aanbod te interpreteer nie. “Nee, bemarking is
nie my forte nie.”
Hy trek haar saggies aan haar vlegsel nader en soen haar op haar voorkop.
’n Tinteling trek deur haar. “Belowe my jy sal nie jaloers wees nie?”
Sy wil protesteer, maar weet nie mooi wat om te sê nie. Hy is reg, sy is
jaloers op alle aandag wat hy aan ander vroue gee pleks van aan haar, en dis
pateties, want waar los dit hulle in hierdie warboel van onsekerheid?
“Wat pla nog? Ek terg jou net. Kom ons probeer ten minste net as kollegas
saamwerk. Ek verwag in die stadium niks meer nie. Dink daaroor. Ek sien
jou later.”
Hy laat ’n leemte agter toe hy uitstap. Sy woorde maal deur haar kop. Sy
verwag meer ... en sy mag nie.
Adriaan loer later om die deur. “Het jy dit oorleef?”
Kylie glimlag. “Vra eerder of hy dit oorleef het,” is haar spottende
antwoord. “Julle hardloop darem vinnig weg as hy in sy donderwolk
verskyn.”
Hy stap in en maak hom weer op die stoel tuis. “Jy praat maklik. Hy het ’n
vlymskerp tong as hy die dag kwaad is, en dis deesdae dikwels. Nie een van
ons is lus om biltong te word nie. Ons almal gis daaroor dat hy die laaste ruk
baie verander het. Hy was altyd ’n joviale en gemaklike ou in die kantoor. Hy
het meer gelag as enigiemand hier rond, en vandat hy CEO geword het, is hy
ongelooflik moeilik.”
Adriaan vou sy arms en beskou die plafon soos iemand wat diep dink.
Sy opmerking interesseer Kylie en sy wag dat hy voortgaan.
“Daar is natuurlik ander menings ...” Hy kyk ondersoekend na haar.
“En dit is?”
“Dat dit met jou teenwoordigheid te doen het. ’n Man wat gefrustreerd is
oor die afsydigheid van die vrou waarin hy belang stel, kan abnormaal begin
optree. Vra my, ek kan uit ervaring praat. My vrou het my lank aan ’n lyntjie
gehou voordat sy my die jawoord gegee het.”
Kylie se oë vernou. “Ek hoop nie jy bedoel wat ek dink jy bedoel nie.
Eerstens sal ek nie daarvan hou as ek so bespreek word nie en tweedens is dit
’n blatante skinderstorie.”
“Kylie, Kylie, jy is naïef as jy dink die grapevine gaan jou uitlos. Daarvoor
is jy te mooi en interessant en dan nog die grootbaas se dogter. Jy is soos ’n
celebrity, die personeel hou jou fyn dop.”
Kylie frons. Sy hou nie van wat sy hoor nie, maar sy besef dis
onvermydelik.
“So gepraat van die personeel, kom sluit ná werk by ons aan vir ’n drankie.
Sommer daar by die sportfasiliteite se pub. Daar is altyd bestuurslede omdat
dit ’n geleentheid is om ’n bietjie saam met die personeel te kuier. Jou pa het
die instelling begin.”
“Ek sal sien. Ná wat ek nou net gehoor het, weet ek nie of ek lus is nie.
Netnou gee dit hulle nog rede om te skinder.”
Hy lag. “Komaan, Kylie, almal dink reeds jy is ’n snob, veral ná die aparte
eetplekepisode. Bewys vir hulle daar skuil eintlik ’n vroulike weergawe van
Karel Visser in jou.”
Sy tergery ontlok ’n skewe glimlag van Kylie. “Soos ek sê, ek sal sien. Ek
is besig om my opsies oor die aparte eetplek te oorweeg aangesien nie een
van julle ooit saam met my eet nie.” Sy staan op en Adriaan volg haar
voorbeeld. “Ek het ’n paar syfers van Hans nodig wat ek voor die einde van
die dag moet deurwerk. Ek wil dit gou gaan haal.”
Sy stap in Hans se leë kantoor in. Toe sy omdraai, loop sy in Laurika vas.
Sy keer vinnig, maar die lêers wat Laurika vashou, trek oor die vloer. Sy buk
af, help haar optel en kom orent.
“Weet jy waar Hans is?”
Laurika vermy haar blik. “By Alex, hy behoort nou terug te wees. Is daar
iets waarmee ek kan help?”
“Ek weet nie, ek soek die Fonteineprojek se state.”
“Dis op sy tafel. Ek het dit daar gelos.” Sy kyk deur die lêers totdat sy ’n
bloue optel. “Hier is dit.”
Kylie vat die lêer. “Dankie, sê vir hom ek het dit.” Toe sien sy die trane
wat vlak in Laurika se oë lê. “Wat is fout?”
Sy snik en antwoord met ’n verwese stemmetjie: “Ek kan nie langer so
aangaan nie.”
Kylie kyk onbeholpe na haar. Het dit weer met Alex te doen? Hoe kry die
man so ’n houvas op vroue? “Kom, ek neem jou kleedkamer toe.” Sy sit haar
arm om Laurika se tengerige skouers. “Vee jou trane af en sodra jy rustig is,
dan praat ons. Kom na my pa se huis toe, maar bel net eers, want ek weet nie
hoe laat ek sal tuis wees nie.”
“Dankie, Kylie, ek het geweet jy is die een mens wat ek kan vertrou.” Sy
loer vinnig na die toe deur voordat sy voortgaan. “Daar is iets wat ek jou
moet vertel. Ek kan nou niks sê nie. Ons kan nie by jou huis gesels nie, ook
iewers weg van hier waar niemand ons kan sien nie. Ek bel jou.”
Kylie frons verward. Hier is meer drama as wat sy vermoed het. “Wat
bedoel jy?”
“Hier is goed aan die gang waarvan jy moet weet. Ek ...”
Voordat sy haar sin kan klaarmaak, gaan die deur oop. Sy swaai verskrik
om.
Hans verskyn in die deur en bekyk hulle wantrouig. “Wat gaan hier aan?”
wil hy weet toe hy die tranerige Laurika sien.
“Niks ... niks,” stamel Laurika. “Ons praat maar net, jy weet ... sommer
vrouegoed.”
Kylie neem oor. “Laurika is net omgekrap oor slegte nuus wat sy ontvang
het. Ek stap gou saam met haar kleedkamer toe.” Sy hou die blou lêer in die
lug. “Ek het die Fonteinelêer as jy dit soek.”
Voordat hy kan antwoord, stap sy by hom verby met Laurika aan die hand.
Buite sig draai sy na die bedeesde meisie langs haar. “Bel my, dan praat
ons.”
Laurika knik en stap by die kleedkamer in. Lank daarna staar Kylie nog na
die toe deur. Nooit sou sy kon droom dat so ’n ingewikkelde situasie met haar
terugkoms op haar sou wag nie.
Nege
Kylie gaan staan in die deur van die raserige kroeg. Die plek is vol en nêrens
sien sy ’n bekende gesig nie. Dis nie haar soort kuierplek nie. Sy sal ’n ander
keer saam met die personeel kuier, besluit sy onmiddellik.
Sy wil omdraai toe iemand haar aan die skouer vat. Sy draai om en kyk
verbaas na Alex. “Wat maak jy hier?”
“Ek het agterbly om vir jou te wag. Die ander is na die naaste pizzaplek
om iets te ete te gaan kry.”
“Dit was nie nodig nie. Julle kon my sommer op my selfoon gebel het.”
Hy reageer nie op haar opmerking nie, beduie net in die rigting van die
kroegtoonbank. “Wat wil jy drink?”
“Moet ons nie by hulle aansluit nie?”
“Nee, ek is nie lus vir ’n klomp mense nie. Kuier ’n rukkie saam met my.”
Sy wil nie weier nie. Om die waarheid te sê, hoe meer sy in sy
teenwoordigheid is hoe meer smag sy na sy geselskap. Sy kyk rond, maar
nêrens sien sy ’n drankie wat sy ken nie. “Miskien ’n glasie witwyn as daar
is.”
Hy knik en stap na die toonbank.
Kort daarna is hy terug met ’n bier en ’n glas wyn in die hand. Hy wys na
die stoep waar ’n leë tafel staan. “Kom ons gaan sit daar in die hoek.”
Toe hulle langs mekaar sit, kyk hy haar ondersoekend aan. “Jy lyk in ’n
slegte bui. Wat is fout?”
Te veel om op te noem, wil sy sê. Wat van ’n aantreklike man wie se
aandag sy nie net kan geniet sonder om op haar hoede te wees nie? Maar sy
haal net haar skouers op en vermy sy deurdringende groen blik. “Dit was ’n
lang week. Ek is nogal gedaan.” Sy drink ’n slukkie van die wyn en probeer
om nie haar gesig te vertrek nie. ’n Swak wyn van twyfelagtige oorsprong. Sy
moes seker nie beter van ’n kroeg soos dié verwag het nie.
“Is jy nog kwaad vir my?” Hy skuif nader en sy skoon reuk met ’n ligte
ondertoon van sy naskeermiddel vou om haar.
Nou het hy haar volle aandag en haar beloning is ’n stouteseunglimlag. Hy
is in alle opsigte onweerstaanbaar en sy vermoed hy weet dit.
Sy glimlag. “Miskien,” speel sy saam.
“Wat moet ek doen om die ‘miskien’ in ’n ’nee’ te verander?” Sy hand vou
om hare wat haar glas vashou. ’n Ligte skok gaan deur haar en sy trek haar
hand vinnig weg.
“Wat van ek sê vir jou wat ek van die wyn dink wat jy drink.” Voordat sy
kan reageer, bring hy die glas na sy lippe en neem ’n versigtige slukkie. “Net
soos ek vermoed het, bokswyn met ’n ligte ondertoon van suur druiwe,
plastiek en karton. Die oesjaar is moeiliker om te bepaal.”
Nou glimlag sy breed. “Touché,” gee sy hom die erkenning.
Hy vou haar hand in syne toe en speel met haar vingers. Sy is oorbewus
van sy strelende vingers, die warmte van sy gespierde been wat net-net aan
hare raak. Haar vel gloei.
“Jy trek môre?”
Sy glimlag. “Ja, ek kan nie meer wag nie. My pa se huis is baie groot, maar
ek het behoefte aan my eie plek.”
“Verlang jy ooit terug Amerika toe?”
“Glad nie.”
“En Jonathan?”
“Wat van hom?”
“Verlang jy na hom?”
“Nee. Ek dink baie min aan hom en dis seker ’n verskriklike ding om te
erken nadat ek dit oorweeg het om met hom te trou.”
“Ek is bly om dit te hoor.” Sy het kritiek verwag en sy rustige antwoord
verbaas haar. Hy los haar hand en neem ’n sluk van sy bier.
Hulle kyk woordeloos oor hul glase na mekaar, dan sit hy sy glas hard
neer. Druppels spat oor die houttafel. “Hoekom doen ons dit aan mekaar?” Sy
stem is besonder hees, asof hy baie omgekrap is.
Sy frons en lek benoud oor haar lippe. “Waarvan praat jy?”
Hy laat haar nie toe om sy blik te ontwyk nie, sy hand kelk om haar gesig
en hy lig haar kop op. Sy oë is diepgroen. “Jy weet waarvan ek praat. Óf ons
baklei óf ons vermy mekaar, nooit iets tussenin nie. Niks in ons optrede sal ’n
verskil aan die gevoel tussen ons maak nie.”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Sy stoot die vol glas wyn eenkant toe
en staan op. “Ek moet ry.”
Hy bly met gevoude arms sit. “Daar vlug jy al weer. Hoekom wil jy altyd
van die werklikheid weghardloop?”
Sy bal haar vuiste. Wat is vanaand fout met hom? Sy is nie lus vir
allerhande diepsinnighede wat ver van die waarheid is nie. “Jy weet nie
waarvan jy praat nie. Ek is nie bang vir konfrontasie nie, maar ek mors ook
nie my tyd met sinnelose gesprekke wat my motiewe en optrede probeer
ontleed nie. Jy ken my nie.”
Hy grinnik. “Dis wat jy dink. Jy hardloop nog jou hele lewe lank weg
sodra probleme opduik. In jou kinderjare het jy van die een huis na ’n ander
getrek omdat jy nie kans gesien het vir die ongemak wat deel was van ’n
nuwe maat in jou ouers se lewe nie. Jy vlug oorsee om die ongemaklike
gedagte van twee gebroke harte agter te laat, en toe Jonathan jou teleurstel,
pak jy jou tasse en kom weer terug. Hier kom jy toe agter dat jou pa iemand
anders aangestel het. Ek is bereid om geld daarop te wed dat jy dit oorweeg
het om terug te gaan, of om iewers anders weer oor te begin. Ek wonder
steeds hoekom jy op die ou end die pos aanvaar het, want dis teen jou aard.
En heeltyd probeer jy van my af vlug.”
Kylie kan nie glo sy luister na hom nie. Sy moet wegstap. Haar lam bene
wil egter nie saamwerk nie. “Jy praat die grootste onsin. Jy luister na my pa
se stories en dan wil jy dit interpreteer sonder dat jy die volle verhaal ken.”
“Vertel my dan die volle verhaal. Ek is meer as bereid om te luister.”
Sy reik na haar selfoon en sleutel op die tafel. “Ek het ’n ander afspraak.”
“O ... iemand wat ek ken?”
“Laurika,” glip dit uit voordat sy besef met wie sy die inligting deel.
Hy frons. “Laurika van Aswegen?”
“Ja. Hoekom? Is daar fout daarmee?”
“Dis nie dit nie ...” Hy kom skielik onrustig voor. Sy kyk verward na hom.
Die een oomblik ontleed hy haar en die volgende oomblik is hy bekommerd
oor haar afspraak met Laurika. En wat wil Laurika vir haar vertel wat soveel
geheimsinnigheid vereis? Het dit iets met Alex te doen? Sy kan skielik nie
wag om met haar te praat nie. Sy moet weet wat hier aan die gang is.
Skielik druk die geraas haar vas. Sy groet en stap weg. Hierdie onsekerheid
maak haar mal. Tot haar verbasing protesteer hy nie teen haar skielike besluit
nie.
Sy is oorbewus van sy blik wat haar volg. In haar motor skakel sy weer
Laurika se nommer en luister opnuut na ’n stemboodskap. Ná die derde keer
los sy ’n boodskap. Sy kan maar net wag totdat Laurika haar bel. En as dit nie
vanaand is nie, dan môre wanneer sy haar kom help met die uitpakkery.

Die volgende oggend trek sy in. Sy het net tyd om vlietend te wonder waar
Laurika is, die in- en uitpakkery hou haar besig. Saterdagmiddag neem sy
nostalgies afskeid van haar pa se huis. Hier sal sy kom kuier, maar nooit weer
bly nie.
Haar hartseer verdwyn toe sy by haar nuwe simpleks instap, die vrolike
meubels en gordyne sien en die reuk van nuwe matte en verf kry. Tevrede
stap sy deur haar plekkie. Dis nie baie groot nie, maar dis háre. Nooit weer
hoef sy te huur of met iemand anders te deel nie. Vir iemand wat nooit regtig
haar eie blyplek gehad het nie, is die gedagte kosbaar. En hier sal sy aan Alex
bewys sy vlug nie vir haar probleme nie. Hy weet nie waarvan hy praat nie.
Wie dink hy is hy om sielkundige met haar te speel? Hy het nie haar onseker
kinderlewe gehad nie.
Sy beplan om die negatiewe deel van haar verlede te vergeet en sodra sy
haar pa se kwessies uitgepluis het, kan sy in alle opsigte skoon begin.
Sy haal haar skilderye uit hul beskermende verpakking. ’n Swetswoord
glip uit toe die hamer haar vinger tref terwyl sy ’n spyker in die muur slaan.
Vies gooi sy dit eenkant neer en stap badkamer toe. Sy spoel die bloeiende
vinger onder die kraan af en kyk na haar seer wysvinger. Gelukkig nie groot
skade nie, sy behoort dit te oorleef. Sy droog haar hande af en word bewus
van ’n teenwoordigheid agter haar. Verbaas draai sy om. Alex en haar pa
staan agter haar en hulle lyk ontevrede.
“Wat is fout?”
Haar pa skud sy kop grimmig. “Hoe kan jy jou deure net ooplos sodat
enigiemand hier kan instap? Jy moet besef jy is nie meer in Amerika nie.
Dinge is anders hier.”
“Die personeel van die binneversierder was nog heeltyd hier besig.”
“Hier is nie ’n siel meer in sig nie, Kylie. Ek het ’n vermoede hulle is
lankal weg en jy het dit nie eens agtergekom nie. Dit gebeur nie weer nie.” Sy
stemtoon is skerp. Alex sê niks, maar sy frons wys dat hy saamstem.
“Ek is jammer.” Haar bedeesde stemtoon word tergerig. “Is julle hier om te
help, of om te baklei?”
Haar pa beduie na die sak in Alex se hand. “Ons het kos saamgebring. Kan
ons met iets help?”
Sy skud haar kop. “Pappa het reeds so baie gehelp, die ander goedjies kan
ek self doen. Kom, ons eet sommer by die eetkamertafel. Ek het nie besef ek
is so honger nie. Wat het julle gebring?”
“Alex het slaai en koue vleis by die deli gekry.”
Haar pa kyk tevrede rond terwyl sy opskep. “Vir die eerste keer begin ek
glo dat jy hier is om te bly. Ek was nog heeltyd bang jy pak weer jou goed vir
’n nuwe uitdaging kontinente van my af.”
“Niks keer my om dit steeds te doen nie.” Hy glimlag skeef oor haar
skertsery.
“Ek glo nie. Iets sê vir my jy gaan ’n rede vind om te bly.”
Alex, wat tot nou toe niks gesê het nie, sit effens vorentoe en vat haar
hand. Sy aanraking skok haar en sy laat val haar vurk. Verbouereerd kyk sy
na hom.
“Wat het met jou vinger gebeur?”
Sy glimlag ongemaklik en probeer haar bloeiende wysvinger wegsteek. Sy
kry dit nie reg nie en hy vryf saggies met sy duim oor haar kneukels.
Hoendervleis slaan oor haar hele liggaam uit en dis eers toe sy haar pa se
geamuseerde uitdrukking sien dat sy haar hand wegtrek en haar vurk weer
beetkry. “Ek het my vinger met die hamer raak geslaan.”
Haar pa lag. “Hoe op aarde het dit gebeur? Jy is tog nie onhandig nie.”
Sy haal haar skouers op. “Net ’n ongeluk.” Nadat hulle klaar geëet het,
neem sy hulle deur die woonstel. Toe hulle weer in die sitkamer is, trek haar
pa haar nader en soen haar op die voorkop. “Kylie, ek moet ry. Ek moet Anja
op die lughawe gaan haal. Ek kom môre weer en bring Anja en Elnette
saam.”
“Dit sal lekker wees, Mamma sal ook hier wees. Sy wou vandag kom help,
maar moes vir ’n dringende hofaansoek voorberei. Sy het egter belowe om
môre te kom. Ek sal iets vir ons maak om te eet.”
“Dan sien ons jou môre.” Hy gee haar ’n drukkie voordat hy uitstap. “Ek
het dit al baie gesê, maar dis lekker om jou terug te hê.”
Sy waai toe hy wegry en draai dan na Alex wat agter haar staan. “En jy?
Het jy nie ’n ander afspraak nie? Of wil jy met jou tweede terapiesessie
begin?”
Hy leun teen die muur agter hom, sy hande in sy broeksakke en ’n
uitdagende glimlag op sy gesig. “So maklik raak jy nie van my ontslae nie.
Geen terapie nie, ek belowe. Ek moet net seker maak jy kom niks oor voordat
jy minstens jou eerste aand hier geslaap het nie. Kan ek skilderye help
ophang?”
Sy knik, stap in en oorhandig die hamer aan hom. Hy vat dit, maar tot haar
verbasing kry hy haar hand ook beet en soen die kneukel van haar beseerde
vinger liggies. Sy staar hom verbouereerd aan en met ’n tevrede glimlag los
hy haar hand. “My ma het altyd my seerplekkies gesond gesoen. So, wat kom
waar?” wil hy weet asof dit wat hy nou net gedoen het, die normaalste ding
op aarde is. ’n Oomblik is haar reaksies traag, maar sy ruk haar reg en beduie
na die eetkamermuur.
Toe die laaste skildery hang, bekyk sy haar omgewing. Amper alles is op
sy plek, nou verdien sy ’n ruskans.
Sy wys na ’n leunstoel in haar sitkamer. “Maak jou tuis, ek kry vir ons
koffie.”
Toe sy met twee bekers koffie terugkom, sit Alex op een van die banke,
besig om deur haar fotoalbums te blaai.
“Jy het die wêreld vol gereis. Waarheen sal jy nog wil gaan as jy kan
kies?”
Sy dink eers voordat sy antwoord. “Seker die Suidelike Halfrond, Australië
of selfs Antarktika.”
Hy kyk vinnig op, ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig. “Antarktika? Jou
pa was reg, jy hou van uitdagings.”
Sy sit die skinkbord neer en beduie dat hy vir hom moet kry. “En jy? Waar
was jy al, behalwe om Kilimandjaro uit te klim?”
“Die Amerikas en dele van Europa.” Hy neem die beker en terselfdertyd
trek hy haar af na die sitplek langs hom.
Sy moet vinnig haar beker balanseer sodat sy nie haar koffie stort nie.
“Hokaai, ek sal op my nuwe bank mors,” betig sy hom, maar sonder verdere
protes bly sy langs hom sit.
Hy beduie na ’n foto. “Waar was dié een geneem?”
Sy loer nuuskierig oor sy skouer en dan glimlag sy toe sy die foto sien.
“Panama. Ons het ’n reservoir daar gebou.”
“En hier?”
“Buson, Suid-Korea. Ek het die wonderlikste tyd daar gehad. Daar het ek
ook geleer om rou vis te eet.”
Sy gesig vertrek en sy lag. Sy brei uit oor haar ervarings en dis eers toe sy
nie meer die foto’s duidelik kan sien nie dat sy agterkom hoe laat dit is.
Verbaas kyk sy op haar horlosie en glimlag verleë. “Jammer, ek mors jou tyd.
Jy wil seker nie die hele Saterdag na my stories luister nie.”
Alex kyk ook op sy horlosie en maak die album toe. “Ek het dit geniet,
maar ek sal moet ry. My ouers verwag my vir aandete.”
Sy staan teleurgesteld op. “Dankie vir die kos en hulp.”
Hy knik en stap voordeur toe. “Ek sal graag later meer oor jou projekte wil
hoor,” sê hy oor sy skouer. Hy huiwer by die oop deur, dan draai hy om en
trek haar nader. Sy lippe rus sag op hare, maar voordat sy in sy omhelsing
kan ontspan, tree hy weg en stap buitetoe.
Sy voel meteens alleen toe sy sy motor agternakyk. Hy het so tuis hier
gelyk, dit verg nie veel van haar verbeelding om hom in die rol te kan sien
van haar ... Vies skud sy die gedagte af en sluit die voordeur. Sy was nog
nooit eensaam nie, sy het niemand nodig nie, daarvoor bied haar lewe te veel
uitdagings. En nou het sy nog ’n paar goed wat sy moet doen voordat sy haar
familie môre kan onthaal.

Die res van die naweek vlieg verby en die Maandagoggend ry sy eers ná een
van haar bouterrein weg. Laat die middag stap sy vir die eerste keer haar
kantoor binne.
“Het jy die nuus gehoor?”
Kylie neem die telefoonboodskappe wat die sekretaresse uithou. Sy skud
haar kop. “Nee, ek was nog heeltyd op die bouterrein en die ontvangs was
swak.”
“Laurika van Aswegen, een van die boekhouers op ons verdieping, is in
die hospitaal. Sy is glo in haar huis oorval. ’n Erge hou teen die kop. Haar ma
het haar glo eers Sondagmiddag gekry, maar klaarblyklik het dit al
Vrydagaand gebeur.”
Kylie stut haar teen die lessenaar toe haar krag haar lyf verlaat. Sy wou juis
nou deurstap om te hoor hoekom sy haar nie gebel het nie.
“Kan ek vir jou iets bring om te drink? Jy lyk so bleek.”
“Nee, ek is oukei. Dis net skokkende nuus. Hoe gaan dit met haar?”
“Ons weet nie. Hans en Alex is hospitaal toe, jy kan dalk een van hulle bel
om nuus te kry.”
Kylie stap na haar kantoor en skakel Hans se nommer. Hy antwoord
dadelik.
“Hallo, Kylie. Jy het seker die nuus gehoor?”
“Ja, nou net. Hoe gaan dit daar?”
“Sleg. Sy het nog nie bygekom nie.”
“In watter hospitaal is sy? Ek wil soontoe kom.”
“Moenie jou tyd mors nie. Net haar ma word by haar toegelaat. Ek en Alex
sit ook maar net hier rond. Ek is binne die volgende halfuur daar. Ek sal ’n
draai by jou maak as ek in die kantoor is.”
’n Bedeesde Hans verskyn ’n uur later in haar kantoor. Kylie stap nader en
vou haar arms om sy skouers. Sy vryf vertroostend oor sy rug; sy liggaam
bewe merkbaar. Kylie verwonder haar oor die emosie wat hy toon. Sy ken
Hans nie as iemand wat sy swakhede openbaar nie. Hy benader die lewe
arrogant en aggressief, asof sekere goed sy reg is. Dié kwetsbare deel van
hom ken sy nie.
Lank daarna tree hy terug. Hy staar na die mat, kyk haar nie in die oë nie.
“Hoe het dit gebeur?”
“Alles is nog net gissings, maar die polisie vermoed sy is Vrydagaand in
die huis oorval. Haar selfoon, beursie en ’n paar ander goed is gesteel.”
“Dis verskriklik. Ek het gehoor van die misdaad in die land, maar dis
skokkend om dit so regstreeks te ervaar.”
“Vir my is die ergste dat ek niks kan doen om te help nie. Sy is so ’n
wonderlike mens. Sy verdien dit nie. Waar gaan alles eindig as die mense om
ons slagoffers word?” Sy stem breek en hy sluk. “Jammer, ek oorreageer
seker nou. Ek praat later met jou.” Hy draai om en stap uit. Kylie staar hom
agterna. Sy het hom nog nooit so omgekrap gesien nie, behalwe miskien die
dag toe sy met hom uitgemaak het. Hy was buite homself van woede en sy
het gevrees hy sal haar te lyf gaan. Vreemd hoe ontstellende gebeure ’n
invloed op mense se emosies kan hê.
Kort daarna stap haar sekretaresse in. “Doktor Visser, inspekteur Malan is
hier om jou te spreek.”
’n Kort, donkerkopman verskyn agter haar en stap in. Sy glimlag
vriendelik en ná die bekendstelling nooi sy hom om te sit. “Waaroor wil u my
spreek? Ek is te kort hier om uitstaande boetekaartjies te hê.”
Hy gaan sit. “Nee, ongelukkig is dit baie ernstiger as dit. Jy ken Laurika
van Aswegen?”
“Ja, sy werk hier, maar ons het mekaar die eerste keer by my pa se huis
ontmoet. Gaan dit oor haar aanranding?”
“Ja, volgens die selfoonmaatskappy se rekords was jy die laaste persoon
wat haar wou kontak voordat sy aangerand is. Wat wou jy bespreek dat jy
soveel boodskappe op haar foon gelos het?”
“Sy was Vrydagoggend omgekrap en wou my iets vertel.”
“Het julle toe kans gekry om te praat?”
“Nee, sy sou my Vrydagaand bel, maar ek het niks van haar gehoor nie. Sy
was van plan om my die naweek met my intrekkery te help, maar sy het ook
nie opgedaag nie.” Kylie sug hartseer. “Nou verstaan ek hoekom.”
“Enige ander goeie vriende hier rond waarvan jy weet wat ons kan help in
ons ondersoek na haar doen en late Vrydag?”
“Sy het ’n goeie verhouding met ons besturende direkteur, Alex.”
“’n Liefdesverhouding?”
Kylie skud haar kop. ”Ek het geen idee nie. Jy moet dit met hom bespreek.
Waaroor al die vrae? Dit was tog ’n inbraak, of is my inligting verkeerd?”
Hy kyk op van die notas wat hy maak. “Dis moontlik, en ook nie. Ons
moet alle leidrade ondersoek.”
“Kon jy al met haar praat?”
“Nog nie. Sy is nog bewusteloos en die dokter is onseker oor wanneer,
indien wel, sy gaan bykom. Kan jy miskien haar presiese woorde met julle
laaste gesprek Vrydag vir my weergee?”
Kylie herhaal die gesprek.
Hy vra nog ’n paar vrae waarop sy nie antwoorde het nie. Dan kom hy
orent. “As daar iets nuuts is wat ons kan help, bel my, asseblief?” Hy gee vir
haar sy telefoonnommer voordat hy groet en uitstap.
Sy sukkel om die res van die dag op haar werk te konsentreer en bly maar
by die venster uitstaar. Sy hoop met haar hele hart dat Laurika van haar
beserings sal herstel.
Tien
Kylie is besig om aandete op te skep toe haar voordeurklokkie lui. Sy frons.
Sy verwag nie kuiergaste nie.
Alex verskyn op haar monitor en sy maak die deur vinnig oop. Hy het
nooit teruggekom kantoor toe nie en sy wonder of hy nou van die hospitaal af
kom.
“Hoe gaan dit met haar?”
“Nog dieselfde.” Sy stem is hees en hy val op die naaste rusbank neer. Sy
kop rus teen die agterkant en sy oë is toe.
“Wil jy iets eet?”
Hy knik sonder om sy oë oop te maak.
Sy sit haar bord kos op ’n skinkbord en hou dit vir hom. Stil begin hy eet.
Kylie gaan sit oorkant hom. Hy lyk moeg en bleek en sy oë is dof. Sy hare is
deurmekaar, asof hy gedurig daardeur vryf. Sy wens sy kon hom vashou en
saggies met haar lippe oor sy gesig streel om so miskien sy pyn weg te neem.
Sy knip haar oë om die prentjie uit haar kop te kry. ’n Ruk later neem sy die
leë bord en gee vir hom ’n glas rooiwyn.
Hy neem ’n groot sluk voordat hy vir die eerste keer praat. “Jou pa se
wyn?”
Sy glimlag skuldig. “Deel van sy geskenke.”
Hy staar lank na haar, dan glimlag hy skeef en sy kuiltjie word effens
sigbaar. “Hy bederf jou. Geen man sal ooit met hom kan meeding nie.”
Sy frons verbaas. Dis die eerste keer dat sy so ’n opmerking hoor en dit
laat haar wonder – het sy ooit haar verloofdes met haar pa vergelyk? Sy glo
nie. Hulle was dalk net so intelligent, maar wat persoonlikheid betref, het
hulle ver te kort geskiet. Dit beteken nie dat sy hierdie verhewe illusie van
haar pa het nie. Hy het ook sy foute. Sy optrede teenoor haar ma het haar diep
seergemaak, haar lewe omvergegooi. Toe al moes sy leer dat niemand
betroubaar is nie.
“Vertel my van jou verloofdes.”
Eers oorweeg sy dit om die onderwerp te vermy. Sy wil nie hê hy moet
haar weer oordeel nie, maar dan kom sy agter dat die woorde oor haar lippe
vloei. “Ek het op universiteit aan die eerste twee verloof geraak. Albei
briljante studente wat oor enigiets op aarde kon gesels. Nadat die eerste
verliefdheid verby was, het ek bang geword vir die gedagte om die res van
my lewe saam met hulle te bly.”
Sy staar na haar kaal voete terwyl sy die herinneringe opdiep. “Jonathan is
ook ’n uitsonderlike man. Ek onthou die eerste keer toe ek hom by ’n
universiteitsdinee gesien het. Mense het tougestaan om met hom te praat. Hy
het hierdie vitaliteit uitgestraal wat my ook aangetrek het. Sy ouderdom was
nooit ’n kwessie nie. In vergelyking met hom was jonger mans vaal en
vervelig. Ongelukkig was hy selfgesentreerd en wou hy my vashou om net na
sy behoeftes om te sien. Ek het gerebelleer en hy het my terugbetaal – ek het
hom in ’n ongemaklike situasie saam met een van sy assistente betrap. Hy het
geweet hoe obsessief ek oor getrouheid is. Nie dat ek daardeur sê hy alleen
dra skuld nie, ek het ook my swakhede.”
Hy glimlag. “En dit is?”
Sy karring met haar vlegsel terwyl sy haar woorde kies. “Ek wonder
deesdae baie daaroor, kan nie op ’n klinkklare antwoord kom nie, maar
miskien is my standaarde te hoog. Dit beteken nie dat ek iemand soos my pa
wil hê nie, net iemand spesiaal wat my nukke en rusteloosheid kan hanteer.
Ek kan ook nie dink dat ek maklik elke dag saam met dieselfde man sal kan
deurbring nie, daarvoor hou ek te veel van nuwe uitdagings. En nog erger, ek
weet nie of ek my volle vertroue in ’n mens kan plaas nie.”
Hy frons. “Alle mans is nie onbetroubaar nie.”
“Miskien nie. Ek moet dit egter nog eers sien om dit te glo.” En wat van
jou? wil sy vra. Kan ek jou vertrou? Die vraag bly in haar kop weergalm.
Koue rillings trek deur haar lyf en sy sit regop, die gemaklike atmosfeer het
meteens verdwyn.
Hy wys na die leë bord op die skinkbord. “Ek het jou kos opgeëet.”
“Ek is nie regtig honger nie, wou net iets doen om my besig te hou. Ek kan
nie ophou aan Laurika dink nie. Die polisie was vanmiddag by my. Weet jy
of hulle enige vordering gemaak het?”
“Niks, absoluut niks.” Hy sug moedeloos, dan lyk hy skielik bekommerd.
“Het julle mekaar ooit Vrydag weer gesien?”
“Nee, ek het nooit weer van haar gehoor nie.”
Hy skud sy kop en staan dan op. “Ek moet seker loop. Dankie vir die ete.”
Sy wil hom nooi om langer te bly. Sy wil nie vanaand alleen wees nie, nie
ná wat met Laurika gebeur het nie. Die lewe is so onvoorspelbaar. Watter
verrassings hou môre in? Miskien kan sy dit ’n oomblik afweer, maar die
woorde steek in haar keel vas. Sy behoort van beter te weet, sy kan hom nie
vertrou totdat sy weet wat aangaan nie. Nog tyd saam met hom kan daardie
feit nie verander nie.
Woordeloos stap hulle na sy motor en toe hy wegtrek, laat hy haar weer
eens onseker agter.

Die weke daarna bring nie ’n verbetering in Laurika se toestand nie. Kylie
besoek haar elke tweede dag. Sy bly egter nie lank nie. Die prentjie voor haar
krap haar om. Laurika is geklee in hospitaalklere met ’n breë verband om die
kop en is aan allerhande masjiene gekoppel. Sy lyk klein en broos.
Elke keer nadat hy by die hospitaal was, daag Alex by haar huis op. Ná sy
tweede besoek skep sy elke aand ’n ekstra bord kos in. Hy bly nie lank nie,
maar sy moet erken dat sy na die besoeke uitsien.
Een aand is hy op pad huis toe toe haar ma daar opdaag. Met ’n opgetrekte
wenkbrou kyk sy Alex se sportmotor agterna. “En dit?”
Kylie hou haar stem ongeërg. Sy weet wat in haar ma se kop aangaan en sy
is nie lus vir ’n ondervraging nie. “Alex was hier.”
“Ek kan dit sien. Is daar iets tussen julle?”
Kylie stap kombuis toe met haar ma agterna. “Nee, Mammie. Sodra ek
weer met ’n verhouding begin, sal ek Mamma onmiddellik laat weet.”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Jy weet van die vrese wat ek oor hom koester.
Kom ons los dit daar, ek het belangrike nuus wat ek eerste vir jou wil vertel.”
Kylie skakel die ketel aan en haal koppies uit. “So wat is Mamma se
nuus?”
“Ek en Chris gaan weer trou.”
Kylie swaai om en omhels haar. “Dis wonderlike nuus! Wanneer gebeur
dit?”
“Volgende naweek. Nie ’n groot storie nie, net ’n klein geselligheid in ’n
hotel. Een van my regtersvriende gaan ons sommer voor die tyd in sy kantoor
trou.”
“Dis gou.”
“Dit moet, voordat ek te veel daaroor begin dink.”
Kylie kyk verbaas na haar. “Hoekom dan trou as Mamma twyfel?”
“Soos jy het ek ’n geskiedenis van mislukte verhoudings. Elke keer begin
jy meer en meer besef jy waag ’n kans met iets wat weer eens nie kan werk
nie, veral omdat ons reeds getroud was en dit nie gewerk het nie.”
“Sjoe, Mamma klink sinies.”
“Sinies, of realisties? Wat is die verskil? So het jy iemand wat jy kan
saamnooi?”
Sy dink onmiddellik aan Alex, maar verwerp die gedagte vinnig. Haar ma
moet darem haar eie troue geniet. “Nee, nie regtig nie. Ek sal sommer alleen
gaan.”
“Vergeet daarvan. Jy is nou gevestig hier, dis tyd dat jy begin uitgaan en
die lewe geniet. Mans gaan nie met uitnodigings aan jou deur klop nie. Chris
het ’n oulike vriend in sy laat dertigerjare wat ’n ruk gelede geskei is. Ook ’n
advokaat. Ek ken hom en weet jy sal van hom hou. Kan ek reël dat hy jou
vergesel?”
“Nee, Mammie, ek is lankal verby die stadium van toe-oëafsprake.”
“Kylie, jy gaan nie sonder ’n metgesel daar opdaag nie. Wat dink jy gaan
my vriende sê wat elke dag moet hoor hoe slim en mooi my dogter is, en dan
daag jy alleen by my troue op?”
“Oukei, oukei, reël dan iets. Ek wil net die ou eers voor die tyd ontmoet.
As ek en hy nie kliek nie, gaan ek alleen, maak nie saak hoe dit lyk nie.”
Haar ma gun haar nie ’n kans om dit te heroorweeg nie. Die volgende aand
vergesel sy David, die advokaat, na een van die duur restaurante in die stad.
Hy is aantreklik, sjarmant en intelligent en sy kan nog ’n lang lys maak van al
sy goeie eienskappe, en tog kan sy nie help om verlig te voel toe sy hom
groet nie. Sy stem egter in om saam met hom na die troue te gaan, net om
haar ma tevrede te stel. Die hele naweek wonder sy waar lê die probleem en
op die ou end moet sy erken sý is die probleem. Sy is die een wat tot die
verkeerde mans aangetrokke voel.

Maandagoggend storm Hans by haar kantoor in. “Jy beweeg deesdae in


belangrike kringe, nè?” Hy gooi die Sondagkoerant op haar lessenaar neer en
wys na die foto van haar en David buite die restaurant. Verstom kyk sy
daarna. Wat is so nuuswaardig daaraan? Hans lig haar vinnig in.
“Weet jy van sy onsmaaklike egskeiding? En dat sy vrou hom van
aanranding aangekla het en dat sy haar handjies op die miljoene wou lê wat
hy by sy pa geërf het? Hy is gereeld in die openbare oog.”
Kylie haal haar skouers ongeërg op. Hy het niks gesê nie, nie dat dit die
soort onderwerp is wat ’n mens met jou eerste afspraak aanroer nie. “Hans,
my privaat lewe is privaat. Was daar iets oor die werk wat jy wil bespreek?”
“Ek wag nog dat jy jou ooreenkoms nakom om saam met my uit te gaan,
en dan moet ek in die koerante lees van jou verhouding met ’n ander man.”
“Asseblief, Hans, jy raak nou onsmaaklik. Kan jy asseblief loop, ek het
werk om te doen.”
Hy bly staan.
“Kasselman, jy het gehoor wat sy sê.” Alex se woorde laat hulle vervaard
omswaai. Hy stap in en Hans storm uit. Alex tel die koerant op. Lank kyk hy
na die foto en sy wag angstig dat hy kommentaar lewer.
Hy sit die koerant neer. Sy gesig is uitdrukkingloos toe hy weer na haar
kyk. “Watter ooreenkoms het jy en Hans aangegaan?”
Sy sluk benoud en soek ’n antwoord. “Dit was sommer niks. Net ’n
klein ... weddenskappie.”
Hy kyk weer na die foto. “Hoe lank ken jy die man?”
“Nie lank nie, ’n paar dae.”
“En wanneer was jy van plan om my oor hom in te lig?”
Kylie draai haar rug na hom. Hoe het sy haar in dié situasie gekry? Alles
was redelik onder beheer. Nou moet sy weer begin antwoorde soek op waar
presies Alex in haar lewe pas. Sy weet nie eens of hy iewers kan inpas nie.
“Dis nie van belang nie. Ek het saam met die man gaan eet, ek beoog nie om
met hom te trou nie.”
“Ek sien. Ek neem aan dat jy hom nie oor my ingelig het nie. Ek is ook
seker nie van belang nie.” Hy spreek die woorde saggies uit, maar sy kan sy
ingehoue woede amper aanvoel.
“Jy ruk alles nou uit verband uit. Ek mag uitgaan met wie ek wil sonder dat
ek verslag hoef te doen.”
Sy is verlig toe sy sekretaresse instap en hom vir ’n oproep roep. Die
konfrontasie is tydelik afgeweer. Miskien sal sy later weet hoe om die
situasie te hanteer.
Sy sien hom nie die res van die dag nie. Die aand wag sy vergeefs vir hom
en die volgende oggend by die kantoor lig hy haar net kortaf in dat daar nog
geen verbetering by Laurika is nie. Wanneer sy hom by die werk sien, is hy
afsydig. Sy boodskap is duidelik toe hy nie weer by haar huis opdaag nie. Sy
is ontsaglik verlig toe die naweek aanbreek. Sy oorweeg dit die hele tyd om
David te bel en hul reëling te kanselleer. Sy weet nie wat erger vir haar ma
sal wees nie – as sy alleen opdaag, of saam met Alex. Nie dat sy dink dat hy
na dese bereid sal wees om saam met haar te gaan nie. En sy kan nie glo sy
oorweeg dit eens nie.
Vrydagaand loop sy hom by die hospitaal se ingang raak.
“Enige verbetering?” wil sy weet.
Hy is kil. “Nog niks. Ek moet ry. Sien jou Maandag.” Teleurgesteld staar
sy hom agterna. Dan draai hy skielik om.
“Ek hoor jou ma trou môre.”
Sy knik.
“Jou pa het my vertel.” Sy woorde klink soos ’n aanklag. Wanneer verwag
hy moet sy hom inlig as hy haar vermy? wonder sy.
“David vergesel jou?”
Sy kan net stom knik. Sy wens haar pa wil haar nie met ander bespreek nie.
Hy bemoeilik net haar lewe.
Hy draai om en stap weg. Sy krap in haar sak rond op soek na haar selfoon.
So ver en nie verder nie. Sy sal nie saam met David gaan nie en sy gee nie
om wat haar ma daaroor te sê het nie.
Haar ma antwoord onmiddellik. “Kylie, ek probeer jou heeldag in die
hande kry. Het jy nie my boodskappe gekry nie?”
“Nee, Mamma. Ek het nog nie daarna geluister nie.”
“Ek het meer inligting. Jou pa se privaat bankier is erg bekommerd oor sy
finansiële situasie en daarom was hy bereid om dit te bespreek. Sake lyk
erger as wat ons gedink het.”
Moedeloos sak Kylie op die naaste muurtjie neer. Wonderlik, net wat sy
nou moes hoor.
“Sy inkomste het dramaties gedaal. Drie groot tjeks is die laaste paar jaar
aan Alex uitbetaal. Ons praat van miljoene rande.”
“Liewe hemel, waarvoor sou dit wees?”
“Ek het nie ’n idee nie. Dis wat ons moet vasstel.”
“Wat gaan ons doen?”
“Ek weet nie. Ek het dit oorweeg om met jou pa daaroor te praat, maar ek
dink nie dis so slim nie. Hy sal woedend wees as hy agterkom ons krap in sy
privaat sake rond.”
Kylie sug. “Moet ek Alex daarmee konfronteer?”
“Is jy mal? Jy weet nie waartoe die man in staat is nie. Laat ons net eers
oor die situasie dink. Tussen ons sal ons ’n antwoord kry. Moenie met
iemand hieroor praat nie, asseblief?”
Kylie sit haar foon af. Wat is aan die gang? Sy wens sy kon dit met haar pa
bespreek. Hierdie onsekerheid is besig om haar op te vreet. Waarmee is Alex
besig? Sy wil hardop skree van teleurstelling en woede. Wat het sy meer
nodig om te besef hy is by iets onderduims betrokke?
Elf
Haar ma se troue gaan in ’n waas by Kylie verby. Haar ma lyk beeldskoon in
’n ligpers aandrok en Chris pronk asof hy die boerpot gewen het. Sy is bly vir
hul onthalwe, maar haar oorheersende gedagte is dat sy nie saam met die man
aan haar sy hier wil wees nie. Sy kan glad nie verstaan hoekom sy so
omgesukkel en ondankbaar is nie. Haar metgesel is ongelooflik aantreklik in
sy donker pak en sy optrede onberispelik, maar dit voel steeds nie reg nie.
Sy vermy haar ma se waarskuwende blik toe sy glas na glas vonkelwyn
wegsluk. Haar ma weet niks van die probleme wat sy probeer verdrink nie.
Toe die eerste gaste groet, is sy met ’n protesterende David aan haar sy
kort op hul hakke. Sy slaak ’n diep sug van verligting toe hulle voor haar huis
stilhou. Die aand is amper verby en dan kan sy in haar bed gaan lê met die
kussing oor haar kop. Sy ignoreer David se skimpe vir koffie. By haar hek
draai sy vinnig om, groet hom met ’n piksoentjie op die wang en stoot die
hek tussen hulle toe voordat hy kan saamstap.
Sy wag nie eens dat hy wegtrek nie en hardloop die trappe van haar donker
stoep op. Daar loop sy haar trompop teen ’n soliede liggaam vas. Die hand
wat om haar mond vou, keer dat sy nie skree nie. Sy reuk is bekend en sy
beur uit sy omhelsing.
“Wat dink jy doen jy?” Haar stem is rou van skok.
“Ek wag vir jou.”
“Hier, in die donker? Jy sal my ’n hartaanval gee! Wat doen jy hier?”
Haar woede het geen effek op hom nie. Hy sit sy hande rustig in sy sakke
en kyk haar op en af. “Jy het moeite vir die man gedoen. En dan gee jy hom
nie eens ’n behoorlike soentjie nie. Het hy ook nie aan jou hoë standaarde
voldoen nie?”
“Jy praat nonsens. Jy moet loop, ek is moeg.” En my brein is in alkohol
geweek en ek dra ’n pyn in my rond oor jou en jou onderduimse optrede.
Maar die laaste deel hou sy vir haarself.
“Jy kan bly wees jy het nie toegelaat dat hy naby jou kom nie. Ek sou hom
waarskynlik iets aandoen.”
“Wat is jou probleem, Alex?”
“Dis nie my probleem wat hier ter sprake is nie, maar joune. Hoekom het
jy my nie saamgeneem na jou ma se troue nie? Is jy bang ek weet nie watter
mes en vurk om te gebruik nie, of is dit omdat jy begin besef jy gaan nie so
maklik van my ontslae kan raak soos jou verloofdes en die arme drommel
wat vanaand saam met jou gegaan het nie?”
“Is jy mal? Jy weet nie waarvan jy praat nie. Sê wat jy wil sê en los my
uit.”
“Wat wil ek sê? Wat van dat ek moeg is vir jou afjakke. Dat ek moeg is
van die afstand wat jy tussen ons probeer plaas. Ek het dit van die begin af
duidelik gemaak dat ek in jou belang stel en net as ek dink jy voel ook so,
dan stoot jy my weer weg. Geen vroumens het nog ooit so met my gevoelens
gespeel nie en ek gaan dit nie langer toelaat nie. Ek wil weet waar ek met jou
staan.”
Kylie kan hom net stom aanstaar. Hoe moet sy haar verweer? Dan besluit
sy om oop kaarte te speel, maak nie saak wat die gevolge nie.
“Ek soek eers antwoorde.”
“Ek luister.”
Sy haal diep asem. Die woorde vloei onbeplan oor haar lippe, haar ma se
waarskuwing vergete. “Hoekom het my pa miljoene rande aan jou
oorbetaal?”
Hy verstyf en sy hande val langs sy sye.
“Waar kom jy daaraan? Beslis nie by jou pa nie, want dan sou jy nie die
vraag gevra het nie. Krap jy in jou pa se persoonlike sake rond?”
“Wat gaan met die maatskappy se boeke aan?”
“Miskien moet jy my inlig, of beter, bespreek dit met jou pa en dan kan jy
aan hom verduidelik hoe jy toegang tot die inligting gekry het.”
“Gaan jy nie verduidelik nie?”
“Ek het ’n vermoede jy verdink my van bedrog of afdreiging of iets. Ek wil
nie eens presies weet wat nie. Ek stel voor jy praat met jou pa. Hy moet
besluit wat hy vir jou wil vertel.”
Hy draai weg, maar sy keer hom met haar hand. “Alex, wag!”
Hy draai half terug. Sy stem is yskoud. “Nee, Kylie, as daar iets is waaroor
ek verantwoording moet doen, bring jou bewyse, dan kan jy jou pos kry wat
ek jou ontneem het. Dis al wat op die ou end vir jou van belang is, nie waar
nie? Hopelik bied dit genoeg bevrediging as jy alleen oud word, want lyk my
geen man sal ook met jou beroep kan meeding nie. En onthou net, alles is nie
altyd soos wat dit lyk nie.”
Sy staar hom agterna totdat hy uit haar gesigveld verdwyn. Dan kyk sy op.
Die sterre blink verwronge. Sy gaan sit verwese op haar trappies en druk haar
hande teen haar bors. Miskien sal dit help om die pyn weg te hou.
Behoedsaam stap Kylie in Alex se kantoor in. Die vensters is oop en ’n koel
briesie trek deur die vertrek, maar nêrens is daar ’n teken van Alex nie.
Teleurgesteld gaan sit sy op een van die stoele. Dit het soveel moed gekos om
tot die stap oor te gaan en nou is hy nie hier nie.
Sy het die hele naweek oor haar en Alex gedink. Sy kon nie langer die feite
ignoreer nie – sy is verlief op die man en is bereid om hom te help waar hy
moontlik verbrou het. Haar gesprek met Jonathan het die nodige vrugte
afgewerp, hy sal vir haar geld leen sodat sy kan terugbetaal wat Alex van
haar pa geneem het. Haar ma sal sy nog oortuig om Alex te verteenwoordig
in enige regsaksies wat moontlik mag ontstaan. Dis wat sy hom nou wil
vertel en hy is nie eens hier nie.
“Wag jy vir my?”
Sy draai verward na haar pa wat met ’n koppie koffie instap.
“Wat maak Pappa hier?”
Hy sak op die stoel langs haar neer en glimlag tevrede. “Ek dag jy weet, ek
kom help. Alex is met vakansie in Antarktika.”
Sy kyk verras na hom. “Antarktika? Wat maak hy daar?”
“Yspieke klim, kajak ry en ski. Wat anders doen ’n mens daar?”
“Ek weet wat ’n mens daar doen, Pappa. Ek het nou die dag vir hom gesê
ek sal ook graag soontoe wou gaan en hy het nie eens genoem dat hy so iets
beplan nie. En hoekom juis nou? Laurika het nog nie bygekom nie.”
“Dit was jou keuse om nie te gaan nie. En hy het dit lank voor Laurika se
ongeluk bespreek. Sy teenwoordigheid gaan tog nie ’n verskil aan haar
toestand maak nie.”
Kylie kyk vinnig op van die knoop waarmee sy vroetel. “Hy het my nie
genooi nie.”
Nou lyk haar pa verbaas. “O, ek dag ... ek het hom seker verkeerd
verstaan.”
“Wat bedoel Pappa?”
“Net toe hy laas daaroor gepraat het, het hy gewonder of hy jou in sy tas
moet boender en of hy jou genoeg waarskuwing moes gee.”
“’n Mens moet so ’n vakansie beplan, dis nie ’n impulsiewe besluit nie.”
Sy voel soos iemand wat nie uitgenooi is na die gewildste skoolseun se
partytjie nie en dit terwyl sy die beste geskenk nog vir hom het.
“Ek is seker jy sou op kort kennisgewing jou tas kon pak. Was jy nie ’n ruk
in Kanada nie? Jy het seker die regte klere.”
“Ja, maar dis nie van belang nie. Hy het my nie genooi nie en ek weet nie
of ek sou wou gaan nie. Hoe lank gaan hy weg wees?”
“’n Paar weke. Ek verwag hom wanneer ek hom sien.”
“Maar dit kan ’n ewigheid wees. Ek bedoel, wie gaan sy werk doen? Ek
het meer as genoeg om my besig te hou.” Sy vou haar arms vies.
Haar pa glimlag tevrede. “Daarvoor is die uwe hier. Ek het lank genoeg
albei julle poste gevul. En ek trek die meeste voordeel hieruit, want ek is
naby my liefste vrou en dogter. Ongelukkig is jy vir ’n onbeperkte tyd met
jou ou pa opgeskeep.”
Kylie oordink haar volgende vraag. Haar pa lyk nie soos iemand wat
ingelig is oor haar optrede nie. “Het Alex met Pappa gepraat?”
“Waaroor?”
Sy glimlag onskuldig. “Net die projekte waarmee ons besig is.”
“Nee, daarvoor staan ek die eerste uur van die oggend aan jou af.”
“Ek kry gou my dagboek, dan kan ons gesels.” Sy kom orent.
“Kylie, my meisie, ek wil jou ’n guns vra.”
Sy draai na hom. “Enigiets.”
“Ek is oor drie weke uitgenooi na een van my goeie vriende se verjaardag.
Ek het gewonder of jy my sal vergesel. Elnette is daardie naweek by ’n spa
en my vriende wil jou graag ontmoet.”
“Natuurlik. Is dit ’n formele geleentheid?”
“Glad nie. Sommer net jeans-en-tekkies-mense.”
“Dit klink goed. Ons praat later oor die reëlings. Ek is nou terug.”

Kylie staar by die venster uit terwyl sy hoor hoe haar projekspan op die
agtergrond gesels. Sy is in ’n befoeterde bui, om die woorde van ’n
personeellid wat sy in die gang gehoor het, te gebruik. Om die waarheid te sê,
sy is verby befoeterd. Nie eens die naweek se skubaduik in Mosambiek het
haar laat ontspan nie.
Sy wou hom wys sy teenwoordigheid is nie belangrik nie. Haar sosiale
lewe is opwindend en uitdagend. En sieldodend sonder hom. Net soos haar
werk. Nes sy soms gevoel het oor haar verhoudings, en ironies genoeg was
dit haar beroep wat die vonk behou het. Nou soek sy daardie ander iets.
Sy wil nie oor die implikasie daarvan dink nie. Sy was nog nooit afhanklik
van ’n ander mens se teenwoordigheid nie. Hoe maklik kon sy nie haar
rugsak vat, die man in haar lewe ’n piksoentjie gee en dae lank iewers in die
bos rondstap of ’n nuwe uitdaging aanpak nie? Hemel op aarde vir haar.
Sy het nog net na haar familie verlang en daardie verlange het nooit so seer
aan haar binneste gebyt nie. Daardie verlange het nooit soveel onvervuldheid
in haar teweeggebring nie, want daar was altyd haar werk waarin sy haar kon
verdiep. Nou is dit dieselfde werk wat haar grensloos irriteer.
“Ek het ’n poskaart van Alex gekry.” Haar aandag is skielik weer by die
groep en sy wag vir sy sekretaresse om uit te brei. Haar pa het ook kontak
met hom, maar hy is suiniger met sy inligting as met sy ingevoerde Belgiese
sjokolade. En in hierdie stadium hoef sy nooit weer sjokolade te eet nie,
solank hy net meer mededeelsaam met sy nuus is.
“Hy was op die Campbell-eilande toe hy die kaartjie gestuur het. Hulle was
op pad om ysgrotte te gaan verken. Hy geniet sy vakansie baie.”
“Dis net ons mal baas wat so iets vir ontspanning sal doen,” merk een van
die junior ingenieurs op. Almal knik.
“Wanneer kom hy terug?”
“Hy sê nie. Hy beoog glo om Suid-Amerika toe te gaan as hy daar klaar
is.”
“Wat?” Die personeel kyk haar verbaas aan en Kylie probeer kalm word.
“Hy kan nie sabbatsverlof neem nie. Hy is skaars drie maande die CEO.”
“Sake verloop vlot met jou pa hier. Ek glo nie ons sal hom sommer mis
nie.”
Kylie pers haar lippe opmekaar. Wat weet sy sekretaresse? Haar pa is
veronderstel om sy aftrede te geniet, nie om in te staan vir die
ontdekkingsreisiger nie. Sy kyk op haar horlosie. Net ná twaalf. Net betyds
vir ’n lang middagete. Miskien moet sy sommer die hele middag vry neem.
Daar is niks wat haar hier hou nie, behalwe miskien ... vyftien veeleisende
projekte, maar sy weier om haar nou daaroor te bekommer. Sy moet wegkom.
Daar waar sy lig kan sien. Sy weet nie hoe sy die volgende paar weke gaan
verbykry nie, maar sy gaan haar bes doen. Sy sal hom wys!

Kylie maak haar gemaklik in haar pa se motor. Sy mors ’n lang vyf minute
aan onsinnige opmerkings voordat sy vra: “Wat hoor pa van die avonturier
par excellence? Is dit nie tyd dat hy ’n bietjie terugkom om sy salaris te
verdien nie? Hy is nou amper drie weke weg!”
Om die waarheid te sê dis twintig dae en agtien uur sedert sy hom laas
gesien het, maar dis nou maar net die ingenieur in haar wat op sulke
presiesheid aandring, troos sy haarself.
“Wat pla jou, Kylie?”
“Niks nie, ek dink net jy moet hom kontak en inlig dat hy moet terugkom.”
Haar pa lag hard. Kylie kyk vies na die bewegende verkeer langs hulle.
Haar opmerking is regtig nie so snaaks nie.
“Nou waarom sal ek so ’n dom ding doen, my kind? Ek wil tog nie my
oogappel se lewe versuur deur die man wat haar pos gevat het te laat
terugkom nie. Ek is seker jy geniet die werkplek waar jy nou kan doen net
wat jy wil. Jy hoef nie eens aan my te rapporteer nie, net soos jy nog altyd
wou.”
“Moenie my koggel nie.”
“Ek kan nie anders nie, want jy bluf my geensins nie, Kylie Louisa Visser.
Ek weet wat agter jou eise sit. Dis miskien tyd dat jy begin leer dat almal in
die lewe nie na jou pype dans nie. Moenie my in jou oorlog betrokke kry nie.
Ek het my eie alliansies.”
“Weet ek dit nie,” grom sy vies en die res van die rit bewaar sy ’n
nukkerige swye.
Haar slegte bui bedaar eers toe hulle deur ’n groot hek ry. Sy fluit saggies.
“Aan wie behoort hierdie hotel? Seker nie Pappa se jeans-en-tekkies-vriende
nie?”
Hy skud sy kop laggend. “Dis nie ’n hotel nie en ja, dis my vriende se huis.
Maar jy weet hoe dit werk met ou geld. Sulke mense het nie pretensies nie,
net ’n groot gesin om die huis vol te maak.”
“Wat doen hulle vir ’n lewe?”
“Konstruksie soos ons, chemikalieë, farmaseuties, noem maar en hulle het
’n belang daarin.”
Kylie klim stadig uit, haar oë vasgenael op die dubbelverdiepinghuis met
sy verskeie vleuels en indrukwekkende ingang. Sy draai om na die uitsig oor
die stad. Gelukkig weerspieël haar pa se kleredrag haar eie – gemaklike jeans
en ’n hemp, anders het sy gedink hy mislei haar.
“Van waar ken Pappa hulle?”
“Ons het mekaar so vyf jaar gelede ontmoet toe ons ’n gesamentlike
saketransaksie aangegaan het.”
“Hoe groot is die gesin? Wie is hulle?”
“Jy sal hulle nie ken nie. Daar is vier seuns.”
Kylie kyk agterdogtig na hom. “Ek hoop nie Pappa probeer my aan een
van die seuns afsmeer nie.”
“Nee, drie van hulle is getroud en die jongste het sy oog op ’n meisie.”
“Ek is bly om dit te hoor.”
“Kom, laat ek jou gaan voorstel.”
’n Mollige donkerkopvrou met ’n lang, maer man op haar hakke kom hulle
glimlaggend tegemoet. Voordat Kylie kan protesteer, word sy in ’n
moederlike omhelsing toegevou. Die aanvallige vrou ruik na ’n kombinasie
van duur parfuum en gebakte brood. Verstom kyk sy na die uitgelate vrou. As
sy nie haar ma se ewebeeld was nie, sou sy sweer sy is die vrou se
langverlore dogter soos sy aangaan.
“Kylie, my meisie, ek is Clarice.” Die vrou tree terug en bekyk haar op en
af. “Uiteindelik ontmoet ons jou! En beeldskoner kan jy nie.” Sy draai na die
man agter haar. “George, is sy nie asemrowend mooi nie!”
George steek sy hand uit en trek haar nader. Sy kan nie wegbeweeg nie. Sy
opsommende blik laat haar ongemaklik rondbeweeg en sy stuur ’n
onuitgesproke hulproep na haar pa, wat die gedoente met ’n vonkeling in sy
oë dophou.
Toe glimlag George vriendelik en Kylie word yskoud. ’n Guitige kuiltjie
verskyn in sy linkerwang. Sy kyk vraend in haar pa se onskuldige oë.
Sy beskou weer die man voor haar. Sy kan sweer hy lyk bekend. Baie soos
die man wat haar deesdae in haar drome rondjaag en toekyk hoe sy van
gletsers afgly en in grotte verdwaal. Sy skud haar kop. Nee, sy verbeel haar
seker net. ’n Ligte hallusinasie. Die man spook by haar. Wat sy dink, is
absurd. Alex die seun van hierdie man? Onmoontlik!
Hulle haak weerskante van haar in. “Kom ons gaan in. Die res van die
familie kan nie meer wag om jou te ontmoet nie.”
Vir die eerste keer weet Kylie hoe Marie Antoinette moes gevoel het toe sy
na die guillotine vergesel was. Iets baie groters is aan die gang as die eerste
ontmoeting met ’n goeie vriend se dogter. Wat, weet sy nie, maar sy hou nie
van die knellende gevoel wat haar om die keel beetkry nie.
Op ’n patio langs ’n massiewe swembad wat op die agtertuin uitkyk, wag
’n mensemassa. Sy probeer tred hou met al die name. Die drie mans aan wie
sy voorgestel word, lyk nie bekend nie. Inteendeel, al drie is so kort en rond
soos Clarice. Sy vergeet haar agterdog in die geraas van stemme en
opmerkings. Almal is vriendelik soos die ouers en hoewel sy die gevoel kry
dat sy beoordeel word, steur sy haar nie daaraan nie. Net die ses gillende
kleuters verbouereer haar.
“Hou jy van kinders?” Clarice sluit by haar aan waar sy eenkant staan en
die kinders dophou.
“Ek dink so.” Haar eerlike antwoord ontlok ’n glimlag van die ouer vrou.
“Hulle is net vir my vreemd. Ons het nie kleintjies in ons familie nie.”
“Ek hoor julle is ook ’n hegte gesin.”
“Ja, ons is.”
“Is jy nou permanent terug?”
“Ek dink so. Ek het nog nie weer die behoefte gehad om iewers heen te
verdwyn nie.”
“Ek is bly. Ek sal sukkel as my kinders nie naby my is nie.”
“Het jou kinders ook rondgeswerf?”
“Nie die drie oudstes nie. Miskien het jy gehoor, maar ons bly almal onder
een dak.”
Kylie se gesig vertrek pynlik.
Clarice lag uitbundig. “Dit beantwoord my vraag, jy sal definitief nie wil
intrek nie. Ek sal dit natuurlik aanvaar, ek het lank genoeg gesukkel om vrede
te maak met die andersheid van my jongste. Hoekom hy so ’n rebel geword
het, weet ek nie. Verbeel jou dat ’n sestienjarige sy tasse pak en die wêreld
gaan verken. Ek het hom seker net twaalf maande gesien voordat hy op
dertigjarige ouderdom terugkeer. Nie dat ek kon kla nie. Hy het al wat
bestuurskwalifikasie oorsee gekry.”
Kylie sukkel om die logika van die gesprek te volg. Clarice het nog nie
klaar oor haar seun gespog nie en Kylie luister met die een oor terwyl sy die
kinders dophou wat mekaar natspat.
“En gelukkig het hy genoeg geld oorsee gemaak om in gemak te leef of net
te reis, na gelang van wat hy wil doen. Dit maak my nog benoud as ek soms
die tekens van sy rusteloosheid sien, maar ek weet jy verstaan en deel
daarin.”
Kylie kyk na die koeldrankglas in die vrou se hande. Sy het geen alkohol
daarin nie, daarom kan sy nie dronk wees nie. Haar opmerkings maak net nie
sin nie. Waarom sal sy hier wil intrek? En verwag die vrou sy moet raad
uitdeel oor hoe om haar swerwerseun te hanteer? Vreemd. Sy kan egter nie
anders as om van haar te hou nie. Soos die res van haar gesin. Almal laat haar
tuis voel.
“Beplan julle om nog die einde van die jaar trou?”
’n Baba se geskree onderbreek die vreemde gesprek en albei draai na die
donkerkopvrou wat met ’n huilende baba in haar arms verskyn.
Clarice stap onmiddellik nader en hou haar hande uit. Met die baba in haar
arms en ’n babasak oor die skouer, stap sy terug. “Kom, Kylie, ons moet vir
die meisietjie ’n droë doek gaan aansit. Laat ek jou wys hoe om dit te doen.
My seun is baie behendig met die bottel en die doek, maar ek het ’n
vermoede ons moet jou nog deur ’n kursus sit.”
Kylie volg haar gedwee die trappe op en in ’n lang gang af. Sy het besluit
om die vrou te aanvaar, eksentrisiteit en al.
“Kom in.” Clarice beduie met haar hand en Kylie stap eerste in. Voordat sy
in die slaapkamer kan rondkyk, word die baba sonder meer in haar arms
gesit. Kylie klou benoud aan die bewegende dingetjie. Sy voel onbeholpe en
is dankbaar toe Clarice die baba weer vat nadat sy ’n papierdoek en room
uitgehaal het.
“Wie se kamer is dié?” Sy stap in die vertrek rond en gaan staan voor die
boekrak. Die meeste titels lyk interessant. Sy trek een oor die Amasone
nader. Dit sal sy graag wil lees.
“Jy weet seker Alexander was vir twee jaar ’n gids in die Amasone. Van
die lekkerste tye wat hy nog gehad het.”
Kylie vries. “Alexander?”
Clarice glimlag. “Dit klink seker vir jou vreemd, maar ek verkies om hom
so te noem. Hy behoort enige oomblik hier op te daag. Samuel het ’n halfuur
gelede laat weet hulle is op pad van die lughawe af.”
“Alex?” Haar onvaste bene wil haar nie vinnig genoeg na die foto’s op die
vertoonkas dra nie. Sy steek ’n aarselende hand uit na die foto van vier jong
seuns. Die drie aan die linkerkant herken sy, Clarice se ewebeelde en die
mans wat sy pas ontmoet het. Dis die vierde een wat bo hulle uittroon wat sy
stip aanstaar – Alex as ’n skoolseun met sy breë kuiltjieglimlag wat vir die
wêreld lag.
“Ma, ek is terug. Waar is jy?” Sy hoor daardie bekende hees stem iewers in
die gang roep.
Clarice gee die baba vir Kylie met ’n waarskuwing: “Sjuut, hy weet nie jy
is hier nie. Ons hou dit as ’n verrassing vir hom.” Sy daai om en gaan staan
buite die kamer.
Kylie hoor hulle praat. Die gesuis in haar ore verhoed dat sy die gesprek
kan volg. Al haar vooropgestelde idees tuimel soos dominoblokkies een vir
een om; haar geniepsige opmerkings oor sy agtergrond, haar prentjie van sy
pa in die oorpak, sy armoede wat hom kan aanspoor om bedrog te pleeg, alles
wanopvattings. Hoekom het hy haar nooit reggehelp nie? Die antwoord tref
haar tussen die oë: want sy het hom nooit gevra nie!
Sy maak die wriemelende baba gemaklik in haar arms en kyk afgetrokke
hoe die kleinding haar vlegsel beetkry en na haar mond toe bring. Sy ruik na
babapoeier en onskuld. Sy wens sy was nog klein. Grootmense maak te veel
oordeelsfoute en moet dan die gevolge dra. Gaan hy haar foute aanvaar?
Clarice verskyn in die deur. “Jy sal nooit raai wie is hier nie.”
Alex se groot gestalte volg haar. Kylie se honger oë eet sy
teenwoordigheid op. Selfs in ’n uitgewaste jeans, ’n slonserige baadjie en met
’n ongeskeerde baard bly hy dodelik aantreklik. Sy klou die baba in haar
arms stywer vas om sy verlammende uitwerking in haar teë te werk.
Sy geamuseerde blik verander in ’n geskokte een toe hy haar in die verste
hoek sien.
Albei staar woordeloos na mekaar. Kylie lek oor haar droë lippe. Wat moet
sy sê?
“Ek vat gou die meisiekind na haar ma toe.” Clarice se woorde verbreek
die swaar stilte.
Kylie oorhandig die baba nadat sy haar vlegsel uit die ywerige handjie
gered het. Alex tree uit die pad en Clarice trek die deur agter haar toe.
Kylie haal diep asem. “Alex ...”
“Kylie.” Hy beduie vir haar om eerste te praat.
Woorde haak in haar keel vas.
Hy tree amper onseker nader en toe sy haar kom kry, vlieg haar voete in sy
rigting. Haar liggaam ruk toe sy in sy arms toegevou word. Sy mond rus op
hare. Heelwat later prewel hy teen haar lippe: “Ek het vreeslik verlang. Daar
was niemand met wie ek kon redekawel nie.” Sy mond beweeg liefkosend
teen haar nek af tot in die holte van haar skouer.
“Nie soveel soos ek nie.” Sy kry hom aan sy hare beet, dwing sy kop
effens terug sodat sy hom in die oë kan kyk. Sy oë is die helderste groen.
“Hoe durf jy so lank wegbly? Jy moes my saamgeneem het.”
“Ek het nie geweet of jy sou wou saamgaan nie.” Hy streel met sy hand
oor haar rug. “Ek het nie vir nog ’n afjak kans gesien nie, daarom is hierdie
verwelkoming verwarrend, maar selfsugtige man wat ek is, kla ek nie.”
“Ek is jammer oor my optrede, maar jy het baie om te verduidelik.”
“Jy ruik lekker.” Sy asem is gejaag. Sy mond verken weer haar nek.
Sy giggel toe hy haar liggies aan haar oorlel beetkry. “Net my gewone
parfuum,” snak sy.
“Nee, dis babapoeier. Toe ek jou daar sien met die baba in jou arms het ek
hierdie prentjie gekry ...”
Sy glimlag skaam. “Ek het vreeslik onbeholpe gevoel.”
“As dit van my afhang, gaan jy baie oefening kry.” Sy druk teen sy bors.
“Wag, jy gaan te vinnig. Kom ons vat dit stap vir stap.”
Hy beweeg effens weg. Sy blik hou hare gevange en wat hy ook al daar
sien, stel hom tevrede. “Ek moet eers stort en skeer. Sal jy hier wag?”
Sy knik, maar trek sy kop weer nader om hom opnuut gulsig te soen. Toe
lig hy sy kop op. “Hou jy van my baard?”
Sy glimlag. “Nee, ek kan nie jou kuiltjie sien nie,” kla sy.
“Dan beter ek iets daaromtrent doen.” Hy draai teësinnig weg en stap na
die kas toe. Hy haal klere uit. Voordat hy in die aangrensende vertrek
verdwyn, beveel hy haar: “Wag net hier, jy roer nie.”
Dinamiet sou haar nie wegkry nie, dink sy. Sy strek haar behaaglik op die
bed uit. ’n Ligte vrees bly egter onder in haar maag karring. Daar is nog baie
onbeantwoorde vrae. Sy wil net nooit weer pens en pootjies in ’n verhouding
spring en dit dan later berou nie, maar sy gaan die oomblik geniet. Sy is moeg
vir ooranalisering. Later sal die vrae in elk geval kom.
Sy blaai onbelangstellend deur die boek in haar hand. Sy kan op niks fokus
behalwe die gedagte aan Alex nie. Kort daarna maak hy weer sy verskyning
in skoon jeans en ’n hemp.
“Dit was vinnig.”
“Ek was bang jy hardloop weg.” Hy gaan sit langs haar op die bed. Haar
hande druk syne weg toe hy sy hemp wil toeknoop. Sy stoot sy hemp af en
wurm haar teen sy lyf vas. Sy ruik seep en skeerroom. Sy vryf strelend oor sy
bors terwyl sy die harde spiere bewonder. “Het jy jou vakansie geniet?”
Hy glimlag skeef. “Dit was ’n ongelooflike ervaring, maar ek wou jou daar
hê.”
Sy trek sy kop nader en lank is daar stilte, dan hoor hulle kinderstemme by
die deur.
Alex lig sy kop stadig op. Hy sien haar teleurgestelde blik en glimlag
skeef. “Ek sweer ek vat jou nou saam met my terug eilande toe. Ten minste
sal ons daar privaat wees.”
Sy vryf met haar hand oor sy skoongeskeerde gesig. “Wat nou?”
Hy staan op en hou ’n hand na haar uit. “Nou sluit ons by die familie aan
en môre praat ons oor ’n paar goed.”
“Ek is bang. Dis te goed om waar te wees.”
“Gee my ’n kans. Ek sal probeer om jou nie teleur te stel nie.” Hy hou
weer sy hand uit en ná ’n effense huiwering sit sy haar hand in die growwe
warmte van syne.
Sy sug. “Laat ons die familie gaan aandurf. My pa sal mooi moet
verduidelik wat hy hierdeur wou bereik.”
Alex glimlag tevrede. “Presies wat gebeur het, jy wat nie jou hande van my
kon afhou toe jy my weer sien nie.”
“En jou ouers? Ek het in ’n stadium gedink jou ma is ’n bietjie mal. Sy het
bly praat van haar jongste seun asof ek presies moes weet wie hy is. En as ek
nou dink oor al die goed wat ek kwytgeraak het oor jou agtergrond ...” Sy lag
verleë. Sy kan nie eens erken dat sy ’n lening vir hom gereël het nie, hoe
belaglik klink dit nie nou nie. Later sal sy hom alles vertel.
Hy glimlag. “Hulle is heeltemal onskuldig. Ek het hulle van jou vertel en
hoe ek oor jou voel. Ek vermoed hulle het gedink daar is lankal iets tussen
ons. Soveel dat hulle al die troue beplan het.”
“Jou oproep in die kantien! Jy het van my gepraat ...” Sy word onderbreek
toe die deur stadig oopgaan en ’n klein blondekopseuntjie versigtig inloer.
“Net soos ek gevrees het, geslote deure kan nie ons familie uithou nie.” Hy
hou sy arms oop en die kleuter hardloop in sy omhelsing in. Bo-oor Alex sy
skouer loer hy skaam na Kylie. Sy glimlag vir die seuntjie voordat sy
vooruitstap. Laat sy maar haar triomfantlike pa aandurf.
Toe sy en Alex hand aan hand op die patio uitstap, kan Kylie omtrent die
afwagting aanvoel. Almal kyk benoud in hul rigting, behalwe haar pa, wat
hulle met ’n tevrede glimlag dophou. Kylie glimlag bedees en Alex trek haar
teen sy sy vas.
“Toe spring julle my voor. Ek wou haar self aan julle kom voorstel.” Kylie
sien hoe sy familie ná sy opmerking ontspan.
Clarice kyk ongemaklik na Kylie. “Ek hoop nie jy is kwaad vir ons nie.
Ons wou maar net vir Alex ’n verrassing reël. Ons het gesien hoe bekaf hy
was toe hy alleen Antarktika toe is. Jou pa het ons egter nooit ingelig dat jy
ook nie weet ons is Alex se ouers nie.”
Haar pa haal net sy skouers op toe Kylie beskuldigend na hom kyk. “Sy
kan maar kwaad wees. Dit sal nie lank wees nie as ek sien hoe sy aan julle
seun klou nie. En dis niks in vergelyking met haar befoeterdheid wat ek die
laaste weke daagliks moes hanteer nie.”
Almal lag en Kylie kan nie haar eie glimlag keer nie.
“Vertel ons van jou vakansie,” sê Alex se pa. Alex trek haar na een van die
leunstoele en nadat hy haar besitlik in sy arms laat sit, begin hy oor sy
vakansie uitbrei.
Die res van die aand vlieg verby en Kylie probeer nie haar teleurstelling
wys toe haar pa sê hy wil huis toe gaan nie.
“Ek sal Kylie huis toe vat.”
Kylie sien die tamheid in Alex se oë. “Nee, jy moet gaan slaap. Ek sal
saam met my pa ry. Jy kan môre kom kuier.”
Hy trek haar eenkant toe. “Is jy seker? Ek wil jou nie nou laat gaan nie.”
Sy glimlag. “Dis oukei. Môre is dit net ek en jy. Ons het baie om oor te
praat.”
Hy frons bekommerd. “Jy sal nie weer môre van plan verander nie?”
Sy skud haar kop. “Ek belowe. So dom is ek nie. Selfs ek kan sien as ek
iets kosbaars ontdek het.”
Hy trek haar nader en dis haar pa wat hulle ongemaklik onderbreek met die
versoek dat hulle moet ry.
Op pad huis toe vertel haar pa hoe hy Alex deur Elnette ontmoet het en
later sy ouers. Alex het aan hom ’n lening toegestaan toe die maatskappy se
kontantvloei swak was. Alex is ’n finansiële towenaar en hy het sy
bestuursvaardighede nodig gehad om die maatskappy weer op die been te kry
en daarom het hy hom ook die pos as besturende direkteur aangebied, veral
toe Kylie aan ’n Amerikaner verloof geraak het.
Hy betig haar goedig oor die manier waarop sy sy finansiële posisie
ondersoek het. Wat die sogenaamde ongerymdhede betref, hy sal die
bevindings met die ouditeur bespreek. Hy glo nie daar is enige rede tot
kommer nie, sy moet alles net nou in sy hande los.
Sy vaste eiendom het hy verkoop om die finansiële skade ná sy vorige
huwelik te herstel. Die rede vir sy geheimsinnigheid verduidelik hy nie, maar
sy los dit daar. Sy kan nie juis anders nie. Hy het nog nooit vir haar gelieg
nie.

Kylie stap opgewonde by Alex se kantoor in. Daar is nog geen teken van hom
nie. Sy het hom ook nie gister gesien nie. Een van sy broerskinders het uit ’n
boom geval en die bekommerde familie het almal die dag in die hospitaal
deurgebring. Gelukkig het die kind nie ernstige beserings opgedoen nie.
Kylie het egter daarop aangedring dat hy sy familie ondersteun; hulle het nog
baie tyd om te praat.
Vanoggend vroeg het hy haar wakker gebel, net om hallo te sê. Hulle het
’n halfuur gepraat.
Sy hoor haar pa fluit-fluit in die gang afkom. Hy is in die sewende hemel
oor die jongste verwikkeling. Hy loer om die deur. “Is Alex hier?”
“Nee, nog nie. Hoekom is Pappa hier?”
“Ek wil net die werk aan hom oorhandig en die kantooromgewing ’n ruk
geniet sonder ’n brombeer wat hier rondloop.”
Sy steek haar tong uit en hy lag.
Hulle hoor stemme in die gang en Alex en Hans stap die kantoor binne. Sy
hoor vaagweg Hans se groet, maar stap asof gehipnotiseer in Alex se rigting.
Hy buk vorentoe om haar te soen. Sy lippe rus sag op hare. Hulle beweeg
eers weg van mekaar toe haar pa keelskoonmaak.
Hans kyk vies na hulle voordat hy op sy hakke omdraai en wegstorm.
“Wat is fout met hom?” wonder sy hardop.
“Seker jaloers,” lig haar pa haar in.
Sy frons verbaas. Niks wat sy gedoen het, kon hom ooit die idee gegee het
dat daar enige hoop op ’n verhouding tussen hulle is nie.
Sy draai terug na Alex, ’n glimlag op haar gesig en Hans se optrede
vergete. “My pa wil gou aan jou terugrapporteer. Sal jy na my toe kom as jy
klaar is?”
Hy plant ’n soentjie op haar voorkop, sy hand warm teen haar wang. “Ek
sal sorg dat jou pa my nie te lank besig hou nie.”
Haar pa grom. “Ek hoop net hier word gewerk as ek nie meer hier is nie.”
Kylie glimlag net voordat sy met ’n laaste blik in Alex se rigting by haar
kantoor instap.
Later lig sy sekretaresse haar in dat Laurika haar bewussyn herwin het en
Alex onmiddellik hospitaal toe is. Verlig luister sy na die goeie nuus. Was dit
nie vir die nuwe kliënt wat haar kom spreek nie, het sy ook hospitaal toe
gegaan.
Sy stap ingedagte na die fotostaatmasjien en voer haar dokumente in. Sy is
dankbaar Laurika is beter, dis al wat sy nog nodig gehad het om te hoor.
“Wat is hier aan die gang?”
Kylie draai verskrik om. Sy het Hans nie hoor aankom nie. Hy staan
dreigend voor haar.
“Nie nou nie, Hans. Ek is besig.” Sy draai terug na die fotostaatmasjien.
Hy kry haar aan die skouer beet en dwing haar terug. “Moenie my ignoreer
nie. Ek wil weet wat tussen jou en Alex aan die gang is?”
Sy ruk haar los. “Hans, jy soek mos nou moeilikheid. Ek is onder geen
verpligting teenoor jou nie. Los my net uit!”
Sy gesig word stroef. “Ek hoop jy weet waarvoor jy jou inlaat, Kylie.”
Kylie vee met ’n bewende hand haar vlegsel terug terwyl sy hom
agternastaar. Wat is fout met hom? wonder sy benoud. Sy aggressiewe
houding is nie vreemd nie, maar veroorsaak steeds koue rillings.
Ná werk ry sy hospitaal toe. Daar verbied die personeel haar toegang
omdat Laurika uitgeput is van die besoekers wat sy reeds ontvang het. Alex is
ook nie meer daar nie en Kylie kan net wonder waar hulle mekaar misgeloop
het. Sy selfoon is ook af.
By haar huis tap sy onmiddellik ’n bad water en gooi badskuim in. Haar
voordeurklokkie lui.
Opgewonde hardloop sy voordeur toe. Dit behoort Alex te wees.
Hans se gesig verskyn op haar monitor. “Kylie, ek is jammer oor
vanoggend. Ek moet met jou praat!”
Sy huiwer. Sy het nie die krag vir ’n emosionele woordestryd nie, veral nie
met hom nie.
“Asseblief?”
Sy kan nie die dringendheid in sy stem ignoreer nie en maak die deur oop.
Sy hare is deurmekaar, sy das losgetrek. ’n Baadjie hang oor sy skouers. Sy
voorkoms sê genoeg. Sy tree terug sodat hy kan instap.
Hy gaan sit op die punt van die rusbank. “Ek is jammer dat dit by ’n punt
gekom het waar ek die waarheid moet praat. Ek wou jou tot nou toe beskerm,
maar jou optrede laat my geen keuse nie.”
Kylie staar hom geaffronteer aan.
“Jy kan Du Preez nie vertrou nie.”
Sy kyk vies na hom. Wat probeer hy nou bewys?
“Luister eers en besluit dan self. Ek weet hoekom jy die inligting oor die
maatskappy se boeke aangevra het. Ek is net so agterdogtig oor wat aangaan.
Ek het nie bewyse nie, want ek kan nie alles bevraagteken wat Alex goedkeur
nie. Ek is egter bereid om my lewe daarop te wed dat hy met iets onderduims
aan die gang is.” Sy opmerking skok haar. “Nog erger, ek vermoed hy het
Laurika gebruik om hom te help.”
“Nou gaan jy te ver!”
“Laurika was nie die slagoffer van ’n roof nie, maar ’n beplande poging
om van haar ontslae te raak, en Alex is die verdagte.”
“Dis genoeg! Ek wil nie meer hoor nie.”
Hy staan op, ’n smalende uitdrukking op sy gesig. “Nes jy wil. Bewys my
net een guns, bel die inspekteur en vra hom. Vra hom ook uit oor die rusie
wat Alex en Laurika in haar kantoor gehad het die oggend voor die aanval.”
Sy beduie na die deur.
Op pad uit draai hy om. “Ek is nog lief vir jou. Ek sal niks doen om jou
seer te maak nie.”
Sy slaan die deur in sy gesig toe en laat sak haar voorkop teen die koue
hout. Sy mag Alex nie weer wantrou nie. Waarom sou hy bedrog pleeg as hy
finansieel so sterk is? Of is hy regtig? Haar ma het haar vertel van
welgestelde mense wat hierdie illusie van rykdom skep terwyl hulle in
finansiële nood is. Hulle pleeg maklik bedrog om die beeld van hul rykdom
in stand te hou.
Haar pa vertrou hom, maar dan het hy sy vorige vrou ook vertrou en dit het
hom ’n paar rand gekos. Die moedswillige stemmetjie in haar krap aan haar
logika. Sy weet haar pa sê daar is niks fout met sy maatskappy se finansies
nie, maar tog vermoed die ouditeur die teenoorgestelde. Net om Hans se
aantygings te weerlê, sal sy die inspekteur bel.
Haar maag trek saam toe die man antwoord. Hy weet dadelik wie sy is.
“Ek hoor Laurika het bygekom. Het julle met haar gepraat?”
Sy stem is rustig en professioneel. “Ja, Doktor, maar net om die gebeure te
bevestig. Ons het reeds haar aanvallers vasgetrek.”
“Dis goeie nuus. Wat ek jou nou gaan vra, is seker vertroulik, maar daar is
stories wat rondlê dat julle vermoed die hele storie is eintlik ’n huurmoord.”
Hy bly stil.
“Asseblief, ek moet weet. As daar ’n moordenaar is wat hier rondloop ...”
“Dis baie moeilik om u daarop te antwoord, aangesien dit ons ondersoek
kan benadeel. Ons verdink wel een van die mans wat ’n verhouding met die
slagoffer gehad het. Meer kan ek nie sê nie. Ek sal dit waardeer as jy sal
stilbly oor hierdie gesprek. Is daar iets wat jy weet wat jy nog vir my wil sê?”
Dis Kylie se beurt om stil te bly. Gedagtes en vrese is besig om ’n
moddergeveg in haar kop te voer. Sy kan nie eens logies dink nie, hoe kan sy
dan haar vrese logies oordra?
Verwese stap sy badkamer toe en trek uit. Hierdie goed jaag haar. Sy moet
Alex die voordeel van die twyfel gee. Hoe verkeerd was haar eerste indrukke
nie? Sy kan nie toelaat dat hul broos verhouding deur ’n paar jaloerse
aannames gekelder word nie. Sy het by haar ma, die regsgeleerde, geleer dat
toevallighede nie voldoende bewys van ’n misdaad is nie.
Haar klokkie lui weer. Sy gooi haar wit kamerjapon oor haar skouers en
marsjeer deur toe. Sy sal nie langer sy nonsens duld nie.
Sy ruk die deur oop.
Alex se glimlag verstar. “Is ek by die regte adres? Ek het nie dié vyandige
verwelkoming van die vrou in my lewe verwag nie.”
Sy antwoord nie, draai net om. Sy is nie nou in die bui vir grappies nie.
Haar kop raas.
“Wat is fout? Ek het by Hans verbygery. Was hy hier?”
Sy kan nie die emosie in sy stem lees nie. Is dit jaloesie, of kommer? “Ja,
hy het ’n vinnige draai hier gemaak.” Sy trek die lapelle van haar japon
bymekaar en klou daaraan vas.
“Hoekom?”
Sy haal haar skouers ongeërg op. “Niks belangriks nie.” Hoekom vertel jy
hom nie die waarheid nie? klink die stemmetjie van rede weer op. Wen
wantroue weer? Sy druk haar koue vingerpunte teen haar voorkop.
“Voel jy sleg?” Hy is meteens naby haar en sy kan nie dink nie. Sy
naskeermiddel prikkel haar sintuie en sy nabyheid veroorsaak ’n kortsluiting
in haar kop. Sy rus met haar kop teen sy bors. Sy hart klop reëlmatig teen
haar voorkop, sy hand streel oor haar vlegsel. Sy sug diep en dwing haar
ledemate om te ontspan. Dit werk nie. Sy bly bang. Waarvoor weet sy nie.
“As ek jou nie vertrou het nie, het ek gedink jy en Hans konkel agter my
rug.” Haar kop ruk op. Weet hy dan van Hans se aantygings?
Hy frons oor haar reaksie. “Ek hoop nie jy verwelkom alle manlike
kuiergaste in jou japon nie?” Sy skud haar kop verlig. As dit maar so
eenvoudig was.
Sy hande wil die japon wegstoot. Sy keer. Dis nie die regte tyd nie. Haar
kop sal nie toegee aan die eise van haar liggaam nie, maak nie saak hoe
aanloklik die aanbod nie.
“Nee, Alex, nie nou nie, my kop is regtig seer. Kom ons los dit. Hoe gaan
dit met Laurika?”
“Nog deurmekaar. Ek was heelmiddag daar, ek sal later weer ’n draai by
haar maak.”
“Ek was ook daar, maar hulle wou my nie toelaat nie. Ek sal weer môre
probeer. Hoekom word jy toegelaat?”
Hy sug. “Sy roep na my as ek nie naby is nie. Sy is deur genoeg pyn
sonder dat ek haar nog verder moet ontstel. Ek sal nou-nou weer moet gaan.”
“Ek verstaan. Jy is welkom om nou te gaan. Ek is nie goeie geselskap nie.”
’n Swaar stilte hang tussen hulle. Sy hoop hy dring aan om te bly.
“Dan sien ek jou môre?”
Sy opmerking laat haar oë brand. Sy knip hulle vies en hou haar stem
emosieloos. “Dan sien ek jou môre.”
Sy hoor die deur saggies toegaan en vou haar arms om haar lyf. Iets is nie
reg nie en sy kan nie haar vinger daarop lê nie.
Die res van die week gaan op dieselfde trant voort. Alex is min op kantoor, sy
sien hom net af en toe, en dis asof daar ’n nuwe ongemaklikheid tussen hulle
is. Wanneer hy vrye tyd het, is hy in die hospitaal. Sy wil dit nie
bevraagteken nie, so selfsugtig is sy nie. As Laurika hom nodig het, dan moet
hy daar wees. Wat sy nie kan verstaan nie, is hoekom hy nie saans by haar ’n
draai maak nie. Sy is te bang om te vra, haar onsekerheid oor hul broos
verhouding maak haar stom.
Die een keer dat sy by die hospitaal was, het sy vinnig geloop voordat
hulle haar kon sien. Alex het met sy rug na haar gestaan, Laurika was in sy
arms en hy het saggies met haar gepraat. Kylie het omgedraai en weggestap,
sy het nie geweet hoe om die toneeltjie te interpreteer nie.
Nou lê sy al weer in haar kamer en wag dat hy haar bel. Sy selfoon is af en
die huisfoon word nie beantwoord nie. Sy kan maar net wonder waar sy met
hom staan. Hy was dan die een wat van die begin af in haar belang gestel het
en nou, noudat sy beskikbaar is, is hy nooit hier nie. Het hy ... het hy dalk
besef Laurika is die vrou vir hom?
Haar selfoon lui en sy gryp dit.
Sy probeer nie teleurgesteld klink toe haar ma haar groet nie. Sy klink
angstig.
“Hier is iets vreemds aan die gang. Die ouditeur het pas ’n e-pos
deurgestuur. Weet jy aan wie behoort jou pa se eiendomme?”
“Alex?” Sy het haar ma nog nie oor die jongste verwikkelinge ingelig nie.
Sy was so vasgevang in haar eie omstandighede dat daar nie tyd was om haar
daarvan te vertel nie.
“Presies. Dis nie al nie. Nog erger, hy besit nou sestig persent van jou pa se
maatskappy-aandele! Weet jy dalk wat hier aan die gang is?”
Verdwasing maak haar tong lam. Hoekom het haar pa hierdie inligting van
haar weerhou? Wat is regtig hier aan die gang? Wat steek hulle weg?
“Dankie, Mamma, ek weet nou genoeg. Die res van die inligting sal ek uit
die betrokkenes kry.”
Sy skakel die foon af en kry haar motorsleutel. Alex het baie om te
verduidelik. As hy nie daar is nie, dan sal haar pa wel wees. Vanaand kry sy
haar antwoorde!
Twaalf
’n Lig skyn in die woonstel agter haar pa se huis. Sy Porsche is onder die
afdak. Hy was heeltyd hier, maar hy antwoord nie die foon nie. Sy sal graag
wil weet hoekom. Wat probeer hy vermy?
Hy maak onmiddellik die deur oop, net geklee in ’n kortbroek. In normale
omstandighede sou sy nie haar hande van die gespierde lyf voor haar kon
afhou nie. Nou is daar egter belangriker goed wat bespreek moet word.
Hy vermy haar blik en sy kry die idee hy wil haar nie nou hier hê nie.
“Ons moet praat.”
Hy vryf deur sy deurmekaar hare. Hy lyk moeg ... en benoud. Is hy bang
vir die waarheid? As hy iemand anders verkies, moet hy net so sê. Sy sal
vinnig oor die verliefdheid kom, sy het heelwat ervaring op daardie gebied.
Om die een te wees wat nie die afsêwerk doen nie, sal ’n bietjie aan haar trots
vat, maar ...
Wie bluf jy, Kylie Visser? Sy klou aan die sleutels totdat dit pynlik in haar
hand druk. Sy het hierdie man voor haar lief. Te veel om net te aanvaar hy
het nie ook in haar sy lewensmaat gevind nie. Hoe verskriklik onnosel was sy
nie tot nou toe nie. Wat sy vir die vorige mans gevoel het, is nie ’n millimeter
van die gevoel wat sy nou ervaar nie. In hom het sy haar sielsgenoot ontmoet.
En hy? Hoe voel hy regtig?
“Wat is fout? Jy is so bleek.” Sy bekommerde stemtoon dring tot haar
deur. Hoe lank staan sy so? Sy kan beweeg nie, haar bene wil meegee.
“Wat gaan aan, Alex? Hoekom hou jy en my pa nog sekere feite van my
weg?”
“Ek wou nog met jou praat. Ek weet net nie hoe jy sal reageer nie.” Vir die
eerste keer lyk hy ook onseker.
’n Beweging agter hom trek haar aandag. Laurika, geklee in haar
slaapklere, verskyn in die sitkamer. Stadig beweeg haar blik tussen die twee.
Hulle lyk skuldig. Wat sy vermoed het, is waar. Die tweegesig! Sy soek die
woede wat haar oorheers het toe sy Jonathan ook so betrap het. Nou
ondervind sy net pyn wat soos golwe oor haar spoel. Hy kon nie eens wag
totdat hy haar ingelig het nie. Sy het meer van hom verwag.
Iewers vind sy ’n reserwe kragbron. Sy tol om en hardloop na haar bakkie
toe. Sy geroep spoor haar net meer aan. Sy wil nie verskonings hoor nie. Sy
ken almal. Jonathan, haar pa. En nou hy. Hulle het altyd die beste redes vir
ontrouheid, maar niks maak dit reg nie.
Toe sy om die draai by haar huis gejaag kom, sien sy hoe die Porsche die
pad blokkeer. Alex leun met gevoude arms teen sy motor.
Sy oorweeg dit om aan te hou ry. Sy jaag op hom af en slaan dan remme
aan. ’n Kleinlike bevrediging stoot in haar op. Sy sal nie verder retireer nie.
Die bakkie hou sentimeters voor hom stil, maar hy knip nie eens ’n oog nie.
Sy spring uit. As hy so graag wil praat, beter hy dit nou doen. Hy het baie
om te verduidelik.
Hy stap na haar toe en die straatlig val op sy bekommerde gelaat.
“Dis nie wat jy dink nie!”
“Nou wat dink jy dink ek?”
“Ek het nie ’n verhouding met Laurika nie. Sy bly by my vir haar
beskerming.”
Oorspronklike verskoning, moet sy toegee. Sy soek na enige tekens van
leuens, maar sy blik is eerlik op haar gerig. ’n Klein vlammetjie van hoop
begin in haar bors brand. Miskien moet sy hom ’n regverdige kans gee.
Miskien het die tyd aangebreek dat sy iemand ten volle begin vertrou.
“Teen wie beskerm jy haar?”
“Teen Hans.”
Sy begin lag. Hoe belaglik! Hans sê dis hy en hy sê dis Hans.
“Jy glo my nie.”
Sy probeer by hom verbystap, maar hy kry haar aan die arm beet.
“Wanneer gaan jy my begin vertrou?” vra hy moedeloos.
“Wanneer jy die waarheid praat. My pa se maatskappy en eiendomme, hoe
het jy dit bekom?”
Hy sug en los haar. “Jou pa wou jou nie daarvan sê nie. Hy wou nie aan sy
suksesvolle dogter erken hy het so te sê alles verloor wat hy vir haar wou gee
nie.”
Sy verstar. “Hoe het dit gebeur?”
Hy tuur ’n oomblik in die pad af. Die gedreun van motors is ver op die
agtergrond. Haar hele wese is op sy antwoord toegespits.
“Dis waar Hans inkom. Die maatskappywinste het verminder kort nadat hy
aangestel is. Karel kon net nie presies agterkom waar die fout lê nie.
Kontrakte is gekanselleer, kostes het buite beheer geraak en voordat hy weet,
was die kontantvloeiprobleme so erg dat daar die moontlikheid was dat hy sy
maatskappy aan skuldeisers kon verloor. Hy het my pa om hulp genader.”
Hy steek sy hande in sy broeksakke, haal sy skouers op. “Ek het ’n nuwe
uitdaging gesoek. Ek spesialiseer daarin om sukkelende maatskappye weer
op die been te kry en dan vir ’n groot wins te verkoop. Ek het vir jou pa geld
geleen en van sy bates gekoop, vandaar die groot bedrae waarmee hy my
terugbetaal. Hy het terselfdertyd my hulp gevra om die maatskappy weer reg
te ruk en Hans se aandeel in alles te probeer bepaal. Ons het ouditeurs
aangestel om Hans se doen en late na te spoor. Dit het tyd geneem omdat hy
sy spore goed uitgewis het. Hy het saam met die kompetisie gewerk om die
besigheid te benadeel en vir sy eie gewin het hy geld in fiktiewe rekenings
oorgeplaas en in oorsese bankrekenings inbetaal. Ons het geen konkrete
bewyse gehad nie. Ons enigste hoop was Laurika. Hulle het ’n verhouding
gehad en ons het vermoed sy help hom. Ek het ’n vriendskap met haar
aangeknoop, met die klem op vriendskap en nie ’n verhouding nie, in die
hoop dat sy iets sal laat glip.”
Hy glimlag skeef. “Ironies genoeg was jy die een by wie sy wou bieg. Hy
het iets vermoed en besluit om deur ’n sogenaamde inbraak van haar ontslae
te raak. Die res van die storie ken jy. Die polisie het vanoggend voorgestel sy
bly by my totdat hulle haar in veilige bewaring kan plaas, sy gaan
staatsgetuie word. Ons het nou ’n goeie idee van sy transaksies en hy kan
aangekla word, en hopelik sy kontakte by ons opposisie ook.”
“Hoekom was ek nie uit die staanspoor ingelig nie?”
“Jou pa was te trots om te erken hy het gefaal. Jou vriendskap met Hans
was nog ’n rede. Ons was bang jy laat iets teenoor hom glip. Ons kon nie
bekostig dat hy iets vermoed nie.”
Die legkaart lê uiteindelik in sy geheel voor haar. Nou maak baie dinge sin.
Hans se pogings om haar te mislei, sy wantroue toe hy haar en Laurika in sy
kantoor aantref, haar pa se misnoeë oor haar verhouding met Hans. En wat
van haar en Alex? Was dit ook deel van die wanpersepsie wat geskep is? Sy
is te bang om te vra, te bang om te glo dat hy regtig vir haar omgee.
Sy draai effens weg. Sy wil nie die waarheid in die oë staar wanneer hy die
antwoorde gee nie.
“My pa se maatskappy, gaan jy dit ook nou teen ’n wins aan ’n
vreemdeling verkoop en ’n nuwe uitdaging aanpak?”
“Alles hang van jou af.” Sy voel sy warm teenwoordigheid teen haar rug.
Sy sluk. “Van my?”
“Ja, van jou. Kylie, kyk na my.”
Huiwerig draai sy om, maar verskuil haar blik onder haar wimpers.
“Ek het nog ’n bekentenis.”
Sy kyk op. Selfs in die beperkte lig herken sy die liefde in sy oë. Hy kyk
baie so na haar.
“Alles wat ek hier gedoen het, het ek vir jou gedoen.”
“Vir my?” Sy maak keelskoon.
Hy glimlag verleë. “Ja, vir jou.” Hy vou die hare wat die ligte aandwind in
haar gesig waai agter haar ore in en dan vou sy hande koesterend om haar
gesig. “Die dag toe my pa Karel by sy huis ontmoet het, het ek net
saamgegaan om hom met sy besluit te help. In daardie stadium het ek ’n
ander belegging in gedagte gehad. Totdat ...”
Haar keel is droog. Sy staar in afwagting na hom. “Totdat?” por sy hom
aan.
Hy kyk weg en laat sy hande sak. “Jy gaan vir my lag. Ek het jou foto’s in
die huis gesien het. Ek het nog nooit ’n mooier vrou gesien nie. Ek het
onmiddellik geweet ek moet jou ontmoet. Ek moes weet of daardie konneksie
wat ek gevoel het net my verbeelding was.”
Sy skud haar kop in verwondering. “Dit was drie jaar gelede.”
“Ja, ek weet. Dit klink belaglik, maar ek het alles oor jou te wete begin
kom. Ek het besluit om die maatskappy vir jou te red. Ek het geweet jy sal
terugkom. Jou e-posse aan jou pa het hy vir my aangestuur. Ek kon my stem
in joune hoor, jou avontuurlustigheid, jou liefde vir die lewe, jou passie vir
jou werk. Jou verlowing met Jonathan het my ’n bietjie laat twyfel, maar ek
het nie vertroue verloor nie. As ons vir mekaar bedoel is, soos ek geglo het,
sou dit uitwerk. Die dag toe jy daar voor my in die tuin staan, het al my
lewensdrome in jou werklikheid geword.”
Sy luister in vervoering, sy het nog nooit ’n mooier liefdesverklaring
gehoor nie. Die voriges was versier met vonkelwyn, rose en diamante.
Hierdie een in die middel van die pad naby ’n raserige hoofstraat kan nie
romantieser nie.
“So lank al?”
Hy knik. “So lank al.”
“Ek wil nie weer verloof raak nie.”
“Ek verstaan.” Hy beweeg effens weg. Sy woorde klink emosieloos, maar
die pyn in sy oë is onmiskenbaar. Hy verstaan haar verkeerd, besef sy.
Sy lag opgewonde en kry hom om die nek beet. Sy trek hom nader totdat
sy lippe amper teenaan hare is.
“Jy verstaan nie. Wat ek vir jou voel, wil ek nie deur my verlede bederf
nie. As ek dink hoe ek oor jou voel in vergelyking met die ander mans in my
lewe, kan ek nie glo dat ek dit ooit oorweeg het om met iemand anders te trou
nie. Nog nooit het ek hierdie sekerheid in my hart gehad nie. Ek kan nie wag
om in alle opsigte jou vrou te word nie.”
Hy glimlag eers, begin dan uitgelate lag voordat hy haar om die middel
beetkry en rondswaai.
“Weet jy hoe lank wil ek al hierdie woorde vir jou sê? Ek is lief vir jou!”
Haar voete is weer op die grond en sy trek hom nader. “En ek vir jou, Alex
du Preez!”
“Hoe pragtig!” Die sarkastiese stem laat koue rillings deur haar trek en ’n
harde voorwerp word in haar rug gedruk. Oor haar skouer sien sy Hans se
smalende gesig. Hulle het hom glad nie hoor aankom nie.
“Laat haar stadig gaan en lig jou hande op waar ek dit kan sien,” sê hy vir
’n geskokte Alex. “Ek het ’n rewolwer in haar rug. Moenie kanse waag nie.”
Alex tree versigtig weg, sy hande in die lug. Hans kry haar om die middel
beet en trek haar teen hom vas.
“Jy gaan nie hiermee wegkom nie!”
Alex se waarskuwing laat hom lag. “Ons sal sien. Teen die tyd dat hulle
julle tweetjies kry, is ek lankal weg. Ek het geweet julle ondersoek my. Jou
relaas het alles net bevestig. Ek is gereed om pad te gee en in weelde in
Europa te gaan leef. Kylie se terugkoms het net my planne ’n bietjie
deurmekaargekrap. Ek wou haar saamvat, maar toe kies sy jou. So dom van
haar. So jammer vir julle.”
“Wat gaan jy doen?” Haar stem klink klein en benoud, nes sy voel. Haar
lyf bewe.
“Wraak neem. Ek gaan ontslae raak van jou loverboy en daarna van
Laurika. Dan het julle geen bewyse teen my nie. En Kylie het baie tyd om dit
te berou dat sy my verwerp het.”
Hy rig die pistool op Alex.
Instinktief ruk sy uit sy arms en spring voor Alex in. Sy hoor die
klapgeluid en dan word alles donker.

Verbaas staar sy na die skerp buislig bokant haar kop. Haar kop voel dik,
haar mond droog. Waar is sy? Haar kamer het dan versonke ligte.
Sy kyk na die vertrek, die blomme by haar voetenent, die ligblou
beddegoed en dan sien sy die man wat met sy kop op sy skouer teen haar bed
sitlê.
Toe onthou sy alles. Hans en die skietery ...
Sy is in die hospitaal.
Alex! Is hy oukei? Sy reik na hom ondanks die pyn waar sy ’n swaar
verband voel. Hy snork skielik saggies en sy begin giggel. Dit klink nie soos
’n man wat dood is nie. En Hans? Wat het met hom gebeur?
Sy vryf saggies deur sy deurmekaar hare, oor sy growwe wang. Hoe lank
lê hy hier? Hy lyk so bleek. Sy vee die trane af wat skielik oor haar wange
loop. Hoe ontsaglik lief is sy nie vir hom nie, vir sy warm persoonlikheid, sy
intelligensie, sy humor. Wat sou sy gedoen het as sy hom moes verloor het?
Skielik gaan die groen oë oop. Hy sit regop. “Jy is wakker! Hoe voel jy?”
Sy vee oor haar oë. “Verdwaas. ’n Bietjie seer. Hoe lank is ek al hier? Wat
het gebeur?”
“’n Dag. Hans het jou raak geskiet. In jou sy. Toe jy voor my ingespring
het.” Hy praat onsamehangend, asof hy aan skok ly. Toe trek hy haar styf
teen sy bors vas. “Jou stupid, stupid vroumens! Hoekom vang jy sulke goed
aan? Jy sal my in ’n vroeë graf instuur.”
Sy glimlag deur die pyn. “Ek wou dit juis voorkom, daarom het ek voor
jou ingespring. Hans?”
“Hy is in hegtenis geneem. Hy gaan tronk toe sodra hy van die beserings
herstel het wat ek hom aangedoen het.” Hy woel met sy hand deur haar los
hare. “Jy moet nou vinnig beter word. Jy het nie baie tyd nie.”
“Hoekom?”
“Jy trou oor twee weke.”
Sy woel haar dieper in sy omhelsing in. Sy hart klop gerusstellend teen
haar oor. “Regtig? Met wie?”
Sy voel die beweging van sy bors toe hy lag. “Baie snaaks! Ek is bly jou
geniepsige tong het nie saam met jou bloed weggevloei nie.”
“Baie snaaks! Ek het nie ’n rok nie.”
“Tipies vroumens. Kry die vangs van haar lewe en dan is sy bekommerd
oor ’n rok! Jy beter net vinnig een kry voordat ek van plan verander.”
Sy stoot hom ru weg en kry hom om die nek beet. Terselfdertyd kreun sy
van die pyn. “Waag dit net!”
Hy lag tevrede. Dan vind hul lippe mekaar honger.
“Wag nou, julle twee. Dis nie privaat hier nie!” Vies kyk Kylie in die
geamuseerde blik van haar ma bokant Alex se kop vas. Sy beduie vir ’n nors
Alex. “Jy gaan nou huis toe en rus. Jou ouers wil ook hoor wat gebeur het en
ek en haar pa wil ’n troue met ons dogter reël, as sy daartoe in staat is.”
Kylie kyk verbaas hoe haar ma hom omhels toe hy orent kom. Die twee het
vinnig vriende geword, dink sy tevrede. Sy het gehoop haar ma sal voor sy
sjarme swig.
Haar pa staan huiwerig in die deur. Hy lyk weer oud en moeg.
“Pappa?” Sy hou haar hand na hom uit.
Hy kom sit by haar. “Ek is jammer, Kylie.”
“Waaroor?”
“Omdat ek te trots was om julle in te lig hoe sleg sake lyk. Omdat ek die
maatskappy verloor het en in die proses amper jou dood veroorsaak het.”
“Gedane sake!” Haar ma beduie met haar hand. “Ek is juis nou besig om
die kontrakte op te stel wat Alex se aandele in Kylie se naam plaas. Dan is
die meerderheid aandele hare.”
Kylie kyk vinnig na Alex. Hy glimlag soos ’n stout skoolseun.
“Jou trougeskenk.”
Sy wink hom nader. Gretig buk hy en sy trek sy kop nader. “Net as jy
belowe ons werk steeds saam, net soos vantevore,” fluister sy.
“Ek belowe. Net soos vantevore, en beter.” Hulle verseël die belofte met ’n
soen.
“Daar is later tyd vir sulke goed,” betig haar ma hulle weer. Kylie steek
tong uit. Engelette lag. “Weg is jy! Gun ons hierdie tyd saam met ons dogter
voordat jy haar lewe oorneem.”
Kylie stuur vir Alex ’n soentjie voordat hy gedienstig by die deur uitstap.
Epiloog
“Jy is absoluut beeldskoon.” Haar ma sug gelukkig. “Alex is ’n gelukkige
man.”
Kylie bekyk die prentjie in die spieël wat haar ma so meevoer. Sy lyk
vreemd. Mooi. Ja, selfs beeldskoon. Haar wit trourok met sy
pêrelskouerbandjies pas styf om haar bolyf. Haar halslyn is laag, soos sy
Alex belowe het. Die satyn klok wyd van haar middel uit en eindig in ’n lang
sleep versier met pêrels. Haar hare is los krulle, soos sy Alex belowe het, en
die diamanttiara wat haar ma ook met haar troue gedra het, lyk soos ’n kroon
op haar kop. ’n Feëprinses, dis hoe sy lyk en voel. “Ek is die gelukkige een.”
“Julle albei is vir my ewe vreemd.” Haar ma snork onvroulik en pink die
trane weg. Sy lyk pragtig in ’n pienk pakkie. “Verbeel jou, ’n maand lange
wittebrood in die Amasone!”
Kylie lag ingenome. “Dis maar net die begin. Daar is nog baie plekke wat
ons vir mekaar wil gaan wys. Pappa is meer as geneë om die maatskappy vir
ons te bestuur. Veral noudat Elnette voltyds daar werk en sy benarde
finansies reggeruk is.”
Haar ma vat haar hand. “Kom, jou pa wag.”
Aan die arm van haar pa betree sy die bekende tuin, haar tuin van haar huis
wat Alex vir haar gekoop het, soos hy belowe het. Elnette wou haar eie plek
hê. Anja het aansoek gedoen by universiteite in Amerika. Kylie hoop sy kom
in Michigan reg. Die woonstel sal altyd daar wees wanneer sy terugkom.
Alex wag by die gazebo. Haar oë verslind die prentjie van hom in sy
troupak. So ’n manjifieke man, en nou is hy hare. Sy kan nie vir meer vra nie.
Sy lig haar kop op vir Alex se soen, bewonder die breë diamantband wat
hy aan haar vinger steek, beweeg in sy koesterende omhelsing. Deurentyd
juig haar hele wese, want in hom het sy haar ware tuiste gevind.
En soos sy hom ingelig het nadat hy die koopkontrak van die huis aan haar
oorhandig het, hy kan maar daarvan vergeet om ’n tuinier oor naweke aan te
stel. Sy verwag van hom om die nodige te doen. Wat sy nie hardop gesê het
nie, maar wat duidelik geblyk het toe sy die knope van sy hemp een vir een
losgemaak het – haar planne laat nie veel plek vir tuinwerk nie. Sy het ’n paar
innoverende idees wat sy met haar tuinier in die tuin kan aanvang ...
Verborge obsessie
Een
“Die hof beslis ten gunste van die eiser. Die verweerder sal die eiser se koste
dra. Die hof sal nou verdaag.”
Ná afloop van die hofsaak ontvang Sonika du Plessis die gelukwensings
van haar kollegas om haar. Sy glimlag tevrede. Nog ’n suksesvolle saak is
agter die rug met haar kliënt wat haar eis vir seksuele teistering teen haar
voormalige werkgewer gewen het. Hulle moes heeltyd hoor dat hulle nie ’n
kans het nie en sy het almal weer eens verkeerd bewys.
Sy draai in die rigting van haar kliënt wat agter in die hof tussen haar
familie staan. Sy lig haar hande oorwinnend in die lug en Sonika glimlag
voor sy terugdraai en haar lêers in haar tas pak. Sy moet gou maak, sy het ’n
ander afspraak. Sy roep haar prokureursklerk, Tarien Naudé.
“Ek moet verkas,” lig sy haar in. “Paul verwag my tweeuur vir ’n
konsultasie. Sal jy asseblief ’n afspraak met ons kliënt vir Woensdag reël, ons
moet die eis vir skadevergoeding opstel. Ek sien jou later.”
Sy druk verby die mense in die hofgangetjie en stap vinnig na die hysbak.
Terwyl sy wag, luister sy na die boodskappe op haar selfoon. Die eerste een
is ’n bevestiging deur haar vennoot, Paul Theron, van die afspraak met die
nuwe kliënt.
Sy glimlag skeef vir die volgende boodskap. Haar vriendin Monique
Meyer het gisteraand haar droomman ontmoet en moet dringend die intieme
detail met Sonika deel.
“Hy is absoluut stunning! Jy moet hom ontmoet. En hy het glo net so ’n
stunning vriend wat ons aan jou wil voorstel!”
Sonika sukkel om saam met haar opgewonde te raak. Hoeveel keer moes
sy nie toekyk hoe haar vriendin se droommanne in skarminkels verander wat
net in haar geld belang stel nie. Monique is ’n welgestelde vrou wat begin het
as ’n skoonheidsterapeut in ’n klein manikuurwinkeltjie en nou die eienares
van ’n aantal suksesvolle skoonheidsalonne is. Sy kon nog nooit verstaan hoe
’n wonderlike mens soos Monique moet sukkel om die regte man te kry nie.
Aan die ander kant verbaas dit haar ook nie. Hoe lank het dit nie geduur voor
sy iemand soos Hanro ontmoet het nie. Daarom het sy ook nie geduld met
Monique se alewige pogings om haar aan iemand anders voor te stel nie. Sy
weet dat Sonika met Hanro Kloppers, ’n senior advokaat, gaan trou en
daarom word sy gereeld vies vir haar vriendin se opmerkings oor hom. Ja, sy
weet hy is ietwat van ’n vaal mannetjie en dat daar ’n groot ouderdomsverskil
tussen hulle is. En wat daarvan dat hy nogal vervelig in geselskap kan
oorkom? Wat wel van belang is, is dat hy voldoen aan haar vereistes vir die
ideale man. Hy is ’n suksesvolle advokaat en daarom verstaan hy haar liefde
vir haar werk. Min mans sal bereid wees om tweede viool ná ’n vrou se
beroep te speel.
Hulle is miskien nou nie die romantiesste paartjie in die stad nie, maar
hulle is groot vriende wat dieselfde belangstellings deel. Meer vra sy nie van
’n verhouding nie.
Sonika drafstap na die parkade waar haar blou Golfie wag. Sy klim vinnig
in, maar Betsie reageer nie dadelik toe sy haar aanskakel nie. Ná die derde
probeerslag is daar ’n gromgeluid en sy glimlag verlig. Haar twee
statusbewuste vennote karring gereeld dat sy soos hulle ook ’n luuksemotor
moet aanskaf en kan glad nie verstaan dat sy redelik platsak is nadat sy die
paaiement op haar splinternuwe simpleks betaal het nie.
Die pad kantoor toe is soos gewoonlik die tyd van die dag besig en sy sien
hoe die minute verbyjaag. Asof die verkeer nie erg genoeg is nie, brand die
somerson fel neer. Haar swart baadjie laat haar sweet, sy trek dit uit en draai
die venster vol oop. Die ligte bries wat deurwaai, karring aan haar Franse
vlegsel, maar doen nie veel om haar af te koel nie. Die drukkende hitte en
haar ongemak kan egter nie haar opgewondenheid demp nie. Op drie en
dertig is sy uitsonderlik suksesvol in haar beroep, en haar persoonlike lewe is
op koers. Waarvoor kan sy meer vra? Sy is geseënd.
Net ná twee draai sy by hul kantore se parkeerterrein in. Die weelderige,
silwergrys motor in die kliënteparkering trek onmiddellik haar aandag.
Motors beïndruk haar nie maklik nie, nie met ’n pa wat altyd die jongste en
duurste model op die mark aanskaf nie. Hierdie een is egter iets uitsonderliks,
en om die prentjie verder af te rond, leun ’n chauffeur nonchalant teen die
kant van die statige motor, ’n koerant in sy hand. Hy kyk bo-oor sy bril na
haar en haar ou skedonk, en asof hulle nie sy aandag werd is nie, lees hy weer
sy koerant.
Sy glimlag. Behoorlik op haar plek gesit deur die chauffeur! Sy wonder of
die motor aan Paul se nuwe kliënt behoort. Sy weet nie veel nie, net dat hulle
’n afspraak het met die verteenwoordigers van ’n suksesvolle oorsese
maatskappy wat hul hoofkantoor na Johannesburg verskuif. Sedert sy en haar
vriende vyf jaar gelede vennote geword het, probeer hulle voortdurend om ’n
voet in die deur van die kommersiële regswêreld te kry en daarvoor het hulle
invloedryke maatskappye se regswerk nodig. Hopelik is die motor en
chauffeur simbolies van die kliënt se mag en status. Haar vennote verdien die
deurbraak en sy sal sorg dat sy haar deel bydra om die kliënt te beïndruk.
Sy draf by hul leë ontvangsarea met sy donkerblou leerbanke, keurige
Persiese matte en oorspronklike skilderye in, maar gaan geskok staan toe sy
haarself in die geraamde spieël agter die ontvangstoonbank sien.
Haar hare hang in slierte om haar gesig, haar swart baadjie is gekreukel en
enige tekens van lipstiffie het verdwyn. Sy trek vinnig haar baadjie reg,
probeer van die hare terugkry in die vlegsel en sit blitsig lipstiffie aan. Toe sy
afkyk om haar swart romp reg te trek, sien sy ’n leer in haar swart sykouse
net bokant haar hofskoen. So gaan sy niemand beïndruk nie, maar sy het nie
nou tyd om iets daaromtrent te doen nie. Vir haar is dit belangriker om betyds
te wees.
Die ontvangsdame, Jennifer Neethling, kom om die hoek gestap. Sy lyk
asof sy uit ’n modesalon stap in haar elegante groen tweestuk en haar grys
hare netjies weggebind. Sonika beny haar behoorlik.
Jennifer glimlag vriendelik. “Het jy jou saak gewen?” wil sy onmiddellik
weet.
Sonika glimlag breed terwyl sy haar jas en aktetas aan Jennifer oorhandig.
“Ja! Ek kon dit amper self nie glo nie, maar ek vertel jou later alles. Ek moet
nou eers by Paul-hulle aansluit.”
“Hulle wag vir jou in die hoofraadsaal. Ek bring nou vir julle drinkgoed.”
“Dankie. Wie is die kliënte?” Sy stap na die raadsaal, en met haar hand op
die handvatsel van die toe deur draai sy effens om en wag op die antwoord.
“Doktor Michael Meskin en een van sy bestuurders van die Meskin-groep.
Jy het seker al van hulle gehoor ...” Jennifer antwoord half oor haar skouer
voor sy na die luiende foon reik.
Sonika verstar. Die aarde kantel toe ’n warboel herinneringe haar
stormloop en amper haar voete onder haar uitpluk. Onmoontlik ... dit kan
nie ... dit mag nie hy wees nie, bid sy in haar gedagtes. Koue sweet slaan oor
haar liggaam uit. Sy probeer haar bang gedagtes wegstoot, maar een
onvermydelike vraag bly agter: Hoeveel ander sakemanne van Londen het
dieselfde naam? Net nie nou nie, bid sy, nie ná al die jare nie.
Voor sy haar geskokte emosies in toom kan kry, gaan die deur oop.
Paul staan voor haar. Met die eerste oogopslag is hy onindrukwekkend in
sy liggrys pak en ylerige bruin hare, maar agter die silwerraambril flits sy oë
wakker en Sonika weet wat ’n intimiderende teenstander hy in die hof kan
wees.
“Sonika!” Sy gesig helder op. “Ons wag net vir jou, ek het verduidelik jy
sal dalk laat wees. Kom binne. Laat ek jou voorstel.” Hy beduie in die rigting
van die mans om die tafel. Hulle staan op toe hulle haar sien.
Versigtig beweeg haar blik oor hulle. Kobus Schoeman, hul ander vennoot,
is een van die mans wat staan, ’n stil, donkerkopman en ook ’n puik
regspraktisyn. Hy knikgroet vriendelik.
Sy voel onmiddellik verlig toe sy die onbekende, ouerige man langs hom
sien. Haar verligting is egter van korte duur toe Paul hom as Graeme Shafer,
die finansiële bestuurder van die Meskin-groep voorstel.
Haar lam knieë protesteer toe sy vorentoe loop om die uitgestrekte hand te
skud.
Dan sien sy vir die eerste keer die blonde man in die verste hoek, half
verskuil agter Paul sit. Hy is geklee in ’n donkerblou wolpak met ’n spierwit
hemp en donkerrooi das – die voorsitter van die maatskappy in al sy glorie, is
haar ironiese gedagte. Hoekom het sy hom nie dadelik raakgesien nie? Hy
kan nie misgekyk word nie, sy selfversekerde teenwoordigheid op sigself vul
die vertrek.
Sy onthou hom as ’n aantreklike agtienjarige jongman met sy lang,
deurmekaar blonde hare in sy verweerde swart leerbaadjie, uitgewaste jeans
en ou T-hemp. Niks kon ooit die prentjie uit haar kop kry nie, nie eens die
talle foto’s van hom later in die media nie. Nou sukkel haar verstand om te
aanvaar dat die ouer man hier voor haar dieselfde een is as wat sy jare gelede
geken het. Hy het verander, sy sien dit in die ligte plooie op sy voorkop en
langs sy deurdringende blou oë. Selfs die kepe in sy wange is dieper. Sy
gesig is hoekiger, sy uitdrukking amper bitter en terselfdertyd arrogant. Sy
lippe is egter nog vol en sensueel en sy ken vasberade. Sy blonde hare is kort,
asof hy daarmee saam die sorgelose sy van sy persoonlikheid in bedwang
gebring het.
Sy neem die prentjie voor haar stuk vir stuk in en kan nie help om te dink
dat sy in ’n stadium elke lyn en vorm van hom geken het nie, selfs so naïef
was om te dink sy ken die ware man. Nou weet sy van beter. Een ding het
egter nie verander nie, moet sy toegee – hy is steeds so ontstellend aantreklik.
Dit sal seker nooit verander nie.
Haar hart slaan ’n paar slae oor toe hulle mekaar in die oë kyk. Geskok
besef sy dat hy met een kyk dieselfde impak op haar het as daardie eerste
dag. Sy het intussen baie dinamiese en aantreklike mans ontmoet, maar
snaaks genoeg is daar net een man wat haar knieë lam maak en haar hart
onreëlmatig laat klop, en ongelukkig kan sy hierdie reaksie nie net aan skok
toeskryf nie.
Hoevele kere het sy haar nie op die herontmoeting voorberei nie. Sy het dit
in detail beplan, van die elegante klere wat sy sou aantrek tot haar
onverskillige houding, en nou is alles verniet, want sy kom onseker en slordig
oor.
Vaagweg hoor sy Paul se geesdriftige bekendstelling. “Ontmoet doktor
Michael Meskin, eienaar en uitvoerende bestuurder van Meskin Holdings.
Michael, dis my ander bekwame vennoot, Sonika du Plessis.”
Verbaas kyk sy hoe hy bly sit en regdeur haar staar asof sy nie bestaan nie.
Sy onbeskoftheid is soos koue water in haar gesig. As daar iemand is wat
sulke optrede verdien, is dit hy. Veral ná wat hy haar aangedoen het. Wat
soek hy dan hier? Sy wens sy het geweet. Sy laat sak haar geïgnoreerde hand
en haar blik beweeg oor die res van die groep.
Om een of ander rede staar Graeme haar ook vyandig aan. Hy ken haar nie,
dus moes Michael hom oor haar ingelig het. Sy sal graag wil weet wat hy van
haar gesê het. Haar arme vennote lyk stom verbaas.
Sonika stap na die stoel langs Paul en gaan sit. Alle oë is nou op Paul gerig
en hy tas verward rond vir woorde. ’n Ongemaklike “Um ... wel ...” kom oor
sy lippe. Hy begin verkleur en vroetel met die papier voor hom.
Jennifer red hom toe sy die vertrek met die verversings binnekom. Al die
mans staan hierdie keer op.
Sonika hou Michael onderlangs dop. Hy neem die koppie tee wat Jennifer
uithou en sit weer. Is dit bloot toevallig dat hy hier is? Het hy haar nie hier
verwag nie? Tog, as hy so ’n bekwame sakeman is soos die koerante
verkondig, moes hy weet wie die vennote is.
Wat probeer hy met sy teenwoordigheid hier bereik? Is hy dalk hier om sy
sukses onder haar neus te vryf? Sy wens sy kon hom inlig dat niks daarvan
nuus sal wees nie.
Hoe kon sy ooit hoop om sy bestaan te ignoreer as hy voortdurend in die
sakeblaaie wat sy lees, verskyn? Vyf jaar nadat hy verdwyn het, het sy hom
die eerste keer in ’n koerant gesien. Dae daarna kon sy nie eet of werk nie,
net na die berig staar. Die wonderkind van Afrika was die oordrewe opskrif.
Hy is beskryf as die mynwerker wat hom opgewerk het tot die eienaar van
verskeie diamantmyne in Afrika en later diverse sakebelange in Europa. Hy
het ook ’n doktorsgraad in Ekonomiese Bestuurswetenskappe behaal.
Sy het haar reggeruk, besluit hy sal nie weer haar kop deurmekaarmaak
nie. Dit was moeilik, veral toe sy hom nie kon miskyk in die populêre
tydskrifte waarin hy klokslag verskyn het nie. Nie die tipiese publikasie wat
sy uit vrye wil lees nie, maar welmenende tiksters druk gereeld sulke leesstof
onder haar neus om een of ander vermaaklikheidster se sappige storie met
haar te deel. Hulle steur hulle nooit aan haar misnoeë nie en dan moet sy keer
op keer in hom en een of ander blonde leëkoppie aan sy sy vaskyk, by een of
ander sinnelose sosiale geleentheid. Die tiksters het omtrent gekwyl terwyl
hulle na sy foto’s gekyk het. Daarna moes hulle vinnig spring om hul
tydskrifte uit die vullismandjie te red.
Gelukkig het sy die bitterheid ontgroei en vrede gemaak met haar verlede
en sy rol daarin. Sy koester nie meer ’n wrok nie, sy wil net normaal met haar
lewe aangaan saam met die man wat sy liefhet. Sy glo nie dis ’n onrealistiese
verwagting nie.
Daar is nie plek vir hom in haar nuwe lewe nie, nie op ’n persoonlike of
professionele vlak nie. Wat sy doel hier is, maak nie regtig saak nie, want sy
gaan seker maak dat sy hom nie weer sien nie.
Sy luister eers afgetrokke na Graeme wat begin praat oor die doel van die
vergadering en die aard van die maatskappy, dan sien sy haar geleentheid.
“Jammer om u in die rede te val ...” Haar stemtoon is apologeties toe sy
Graeme onderbreek.
Graeme bly stil en kyk effens geïrriteerd na haar.
Sy sit vorentoe, skuif die koppie tee ’n bietjie weg en stut haar hande
liggies op die tafel. “Hier is ’n misverstand wat ons moet regstel.”
Graeme frons. “Watse misverstand? Wat verstaan u nie?”
“Dis u wat nie verstaan nie, Menere ...” Haar stemtoon is sag en beheers.
“Die regskundigheid wat u benodig, word nie deur ons spesialiseringsveld
gedek nie. Ons het beperkte ervaring in die oorplasings van buitelandse
maatskappye en maatskappy-oornames en dis vir my duidelik dat dit is wat u
by uitstek van ons gaan verwag. Voor u dus ...”
Sy word onmiddellik deur Paul onderbreek. Hy lyk erg gepynig. “Met alle
respek, Sonika, jou afleiding is verkeerd. Jou ervaring mag dalk beperk wees,
maar ek verseker u, Menere ...” Hy verskuif sy pleitende blik van haar na die
kliënte. “Ek en Kobus is vertroud met die regsvereistes van genoemde
aspekte. Gaan gerus voort met u verduideliking, meneer Shafer.”
Graeme stoot die notas voor hom weg. “As u onbekwaam is om ons
regswerk te doen, dan moet ons heroorweeg ...”
Hy word weer onderbreek, hierdie keer deur Kobus. “Geensins, Paul is
heeltemal reg. Ons is bekwaam om enige regswerk te hanteer. Sonika het u
seker verkeerd verstaan.”
Sonika sluk swaar aan haar vennote se teregwysing. Sy is nie die een wat
verward is nie, maar voor sy haar standpunt kan lug, praat Michael vir die
eerste keer. Sy stemtoon is beslis.
“Graeme, gaan asseblief voort?” Hy sit vorentoe op sy stoel, sy hande
uitgestrek op die tafel en sy blou oë smalend op Sonika gerig. “Julle kan later
besluit of julle die werk kan doen. Gee Graeme kans om klaar te praat. Ons
het nie die tyd om ’n onprofessionele debat aan te hoor oor wat julle kan doen
en nie kan doen nie.”
“Onprofessioneel?” Sonika skree die woorde met ’n skor stem en kom
orent. Wat ’n belediging! Die woord bestaan nie eens in haar woordeskat nie.
Voor sy nog ’n woord kan uitkry, skop Paul haar teen die enkel. Sy gee
hom ’n vuil kyk. Hy deins egter nie terug nie, maar skud net sy kop. “Hou jou
in, Sonika!”
Sy sagte waarskuwing bring ’n mate van besinning. Sy sak terug op haar
stoel en staar wrewelig na Michael, wat sy aanval voortsit.
“Ja, Juffrou, u het reg gehoor, onprofessioneel. Ek verwag eenstemmigheid
onder my prokureurs. Ons kan uit baie regsfirmas kies, daarom gaan ons nie
ons tyd mors met onbeholpenheid nie. Ek gee u tyd om daaroor te dink. As
julle verder belang stel, het julle ’n week om terug te kom na ons. Daarna sal
ons besluit watter prokureurs ons besigheid gaan kry. Dis seker nie te moeilik
om te verstaan nie?”
Hy kyk spottend na haar en sy kan weer eens nie haar reaksie keer nie. Sy
spring op en leun woedend oor die tafel. Hy beweeg ook nader en kyk haar
uitdagend aan. Die reuk van sy geurige naskeermiddel tref haar ongevraag en
haar sintuie reageer onbeskaamd. Sy voel hoe haar patetiese bene weer lam
word en haar bolyf word net regop gehou deur bomenslike inspanning van
haar hande op die tafel. Sy gee haar egter nie oor aan die verraad van haar
liggaam nie. Haar blik weifel nie ’n oomblik voor syne nie.
Paul praat hard langs haar. “Sonika.” Sy draai verdwaas na hom. “Ons sal
verstaan as jy die onderhandelings verder aan my en Kobus oorlaat. Jy wil
seker vroeg verskoon word vir jou volgende afspraak?”
Sy gryp die reddingsboei wat hy vir haar uithou en sonder om na die ander
te kyk, stap sy uit.
Twee
Sonika druk haar kantoordeur agter haar toe en leun met haar rug daarteen.
Haar nat handpalms gly oor die koue, gladde hout. Vrae maal deur haar kop.
Wat het nou net gebeur? Hoekom het sy so beheer verloor?
Stadig sak sy teen die deur af toe haar bene finaal meegee. Sy sitlê
onvroulik op die growwe mat. ’n Snik ontsnap oor haar lippe. Sy vou haar
bewende arms om haar bene en druk haar nat wange teen haar koel sykouse.
Sy herleef die gebeure in haar gedagtes. Sy herken nie die vreemde vrou in
die raadsaal nie. Jare se selfdissipline het haar binne die eerste minuut in sy
teenwoordigheid ontglip.
Hoe kon sy so beheer verloor het? Dis nie hoe sy optree nie. Haar
persoonlike gevoelens meng nooit in met haar professionele gedrag nie.
Hanro praat altyd van haar koelkophouding. Hy beskou dit as haar
aantreklikste eienskap, dit wat haar so ’n goeie prokureur maak.
Hanro. Sy beeld kom by haar op, sy lang, lenige lyf, sy maer gesig met sy
deurdringende bruin oë en sy kort grys hare. Betroubare Hanro, die stabiele
faktor in haar lewe en die eerste man wat sy weer kon vertrou.
Sy spring vervaard op, reik na die foon op haar lessenaar. Sy moet met
hom praat. Hy sal alles in perspektief plaas. Hy sal verstaan.
Dan sit sy die gehoorstuk versigtig terug op die mikkie.
Hoe moet hy verstaan as hy nog nooit van Michael gehoor het nie? En hoe
kan sy nou eers, ná ’n twee jaar lange verhouding, verduidelik? Hoe
verduidelik sy ’n sestienjarige meisie wat met die eerste ontmoeting
halsoorkop verlief geraak het op die huishoudster se sewentienjarige seun?
Sy ma, Elise, het in die personeelkwartiere agter die hoofhuis ingetrek. ’n
Warm, hartlike blonde vrou met wie sy gou vriende geword het. Sy was so
anders as haar afsydige ma, wat glad nie gelukkig met die vriendskap was
nie. Sy is van die werkersklas, benede ons, het haar ma haar gereeld ingelig.
Gelukkig was haar ma nie by toe sy die eerste keer vir Michael gesien het
nie, want sy sou geskok gewees het. Die werkersklasseun het haar voete
onder haar uitgeslaan.
Elise het gereeld van hom gepraat. Hy was haar enigste kind, haar man is
dood voor sy geboorte. Hy het in die goudmyn gewerk omdat skofwerk goed
betaal het en het deeltyds gestudeer sodat hy later ’n beter werk kon kry.
Sy het ook baie oor haar man gepraat, hoe hulle mekaar in ’n hotel ontmoet
het waar sy gewerk en hy gebly het. “Hy was van Londen met vakansie in
Suid-Afrika. Ons was dadelik verlief en twee maande later getroud. Hy is
terug Londen toe, ek sou later volg. Kort ná sy aankoms daar is hy in ’n
motorongeluk dood. Ek het terselfdertyd agtergekom ek is swanger en is
Londen toe, waar ek van sy dood gehoor het. Sy ouers wou nie ons huwelik
of my kind erken nie. Ek is terug Suid-Afrika toe waar ek Michael alleen
grootgemaak het. Ek het nooit weer met sy ouers kontak gehad nie.”
Een naweek het Michael op sy motorfiets by haar ouerhuis opgedaag. Sy
het hom stom aangestaar. Nog nooit het sy so ’n aantreklike man in lewende
lywe gesien nie. Van sy deurmekaar, blonde hare tot sy helderblou oë en
gespierde liggaam in ’n noupassende T-hemp en jeans, was hy vir haar die
toonbeeld van manlike volmaaktheid. Toe die stilte begin ongemaklik raak,
het sy iewers woorde gevind, maar tot haar teleurstelling het sy nes haar
snobistiese ma geklink: “Die afleweringsdeur is agter.”
Hy het haar op en af gekyk en voordeur toe gestap waar Elise die deur
oopgemaak het. Sy het jaloers toegekyk hoe hy sy ma omhels. Daarna was hy
gereeld daar. Sy was in KwaZulu-Natal op skool en het ongereeld huis toe
gekom. Hulle het vir meer as ’n jaar nooit ’n woord met mekaar gepraat nie.
Sy het voorgegee dat sy hom nie eens raaksien nie.
Dit was allesbehalwe die waarheid. Haar pa se studeerkamer op die
boonste verdieping het die perfekte uitsig op die swembad gehad waar hy
gereeld ontspan het. Sy het haar ontbyt ook nie meer in die eetkamer geëet
nie, maar in die kombuis, waar hy en sy ma dikwels gekuier het.
In haar matriekjaar het dinge verander.
Haar ouers was die aand by ’n dinee, sy het verveeld in die huis
rondgedrentel en in ’n stadium besluit om te gaan swem. Sy het hom nie
onmiddellik opgemerk nie, maar toe sy hom halflyf in die swembad sien,
wou sy nie omdraai nie. Die plek behoort immers aan haar ouers. Langs die
kant van die swembad het sy gaan staan, oorbewus van haar bikini wat haar
ontbloot laat voel en sy oë wat elke beweging gevolg het. Hy het skielik
nadergeswem, sy hand doodluiters uitgesteek en haar ingetrek.
Sy het spartelend boontoe probeer kom, woorde geuiter wat ’n
konserwatiewe jongmeisie nie veronderstel was om te ken nie.
Hy het tevrede gelag en haar met gemak nadergetrek. Hul klam lywe was
skielik teen mekaar en albei het stil geword. Die naggeluide was vaag, die
swembadligte sag op hul nat gesigte. Hulle het verbaas na mekaar gestaar. Hy
het sy hande meteens om haar gesig gevou en sy lippe het sag op hare gerus.
Haar eerste soen, dit was ongelooflik. Sy lippe het met hare gespeel terwyl hy
skor die mooiste woorde nog geuiter het.
“Sonika ... Sonika ... jy is my fantasie ...”
Sy het haar arms om sy breë skouers gesit, haar hande het deur sy nat hare
gegly. Die vryheid om aan hom te raak, het haar bedwelm. Sy lippe op hare
het intenser geraak, sy liggaam het haar teen die kant van die swembad
gedwing.
Skielik het motorligte oor die swembad beweeg. Haar ouers was tuis.
Sy het vervaard losgeruk en uitgeklim. Sy was te bang om na hom te kyk,
bang vir die spot in sy oë.
“Sonika!” Sy het omgekyk. Sy oë het in die lig geblink, ernstig, nie
spottend nie. Sy fluisterwoorde het warm oor haar gespoel. “Kry my môre
tweeuur by die motorhuis.”
Sondagmiddae was haar tyd. Haar ouers het ná middagete in hul privaat
sitkamer ontspan tot vyfuur, wanneer sy lughawe toe moes gaan.
Sy was tweeuur gereed, soos vele ander kere daarna. Haar ouers het
gelukkig niks vermoed nie, hulle sou haar optrede nooit goedgekeur het nie.
Hy het haar op sy motorfiets gehelp en saam het hulle die stad ingevaar.
Die eerste keer is hulle na die Botaniese Tuine waar hy ’n kosmandjie
uitgepak het, ’n kombers op die gras oopgegooi het en hom langs haar
neergevly het met sy kop op haar skoot. Sy moes hom voer, dit was sy
sogenaamde wraak vir haar eerste woorde aan hom.
Hulle het ure gesels, hul drome en hartseer met mekaar gedeel. Sy
romantiese sy het haar verbaas, hy het altyd ’n geskenkie gehad – sjokolade,
gediggies, kaartjies, blomme. Hy het haar selfs geleer om motorfiets te
bestuur. Sy het gefloreer op sy aandag en hy het haar begeerte na
onvoorwaardelike liefde en erkenning verstaan en dit vir haar gegee, dit wat
sy nie in haar ouerhuis gekry het nie. Saam met hom het sy die gelukkigste
tye in haar jong lewe deurgebring. Sy kon nooit genoeg van hom sien nie.
Die week was te lank, die naweek te kort.
“Sonika.” Haar bittersoet gedagtes word onderbreek deur Kobus se harde
stem agter die toe deur. “Ons moet praat. Kan ek en Paul inkom?”
Die deur word summier oopgemaak. Sonika gryp ’n snesie uit haar laai,
draai haar rug na die deur en vee vinnig die trane af.
Haar vennote stap in, trek vir hulle stoele uit en gaan sit. Hulle lyk
omgekrap.
Sy bly staan. “Is hulle weg?” Haar stem is hees, haar tong klou aan haar
verhemelte vas.
“Ja, ’n paar minute gelede. Nadat ons baie moeite moes doen om hulle te
kalmeer.” Paul kyk vies na haar, haal sy bril af en vee moedeloos oor sy oë.
“Wat is fout?”
Sonika draai weer haar rug na hulle. Sy staar deur die venster na die
middagverkeer. Binnekort sal die geraas toeneem met die stormloop in
spitstyd. Dit verbaas haar nie dat haar kop raas soos die verkeer daar buite
nie.
Sy draai om. “Ek wil nie graag in detail ingaan nie, maar is dit moontlik
dat ons nie sake met dié maatskappy doen nie?”
“Die maatskappy, of eerder doktor Meskin?” Paul klink skepties.
Sonika glimlag skeef. Sy moes geweet het sy kan hulle nie bluf nie,
daarvoor ken hulle mekaar te goed. Hulle is vriende van haar eerste jaar op
universiteit. Daar was nooit sprake van romanse tussen enige van hulle nie,
sy het op daardie tydstip alle mans wat in meer as vriendskap belang stel,
vermy.
“Albei. Die een is seker die ander.”
Kobus sit vorentoe, sy arms op sy bene gestut en ’n dringendheid in sy
stem. “Ons kan nie toegee aan jou versoek nie, want ons wil sy besigheid hê.
So ’n geleentheid gaan ons nie gou weer kry nie. Die enigste probleem is dat
ons dit nie sonder jou kan doen nie.”
“Julle verstaan nie.” Sy vroetel met die snesie in haar hande en staar na die
beweging terwyl sy die regte woorde soek. Hoe beskryf ’n mens pyn en
vernedering? Selfs met haar uitgebreide woordeskat, kan sy nie.
“Nou vertel ons. Ons wag.” Paul se stemtoon is vasbeslote, hy soek
antwoorde.
Sy kyk weer op. “Ek en Michael het ’n verhouding gehad toe ek in matriek
was. Dit het ... baie onaangenaam geëindig ...” Sy struikel oor haar woorde.
“So wat is die probleem nou eintlik?” Paul trek sy wenkbroue skepties op.
“Ek vermoed daar skuil iets agter sy skielike verskyning. Ek het hom nog
nooit weer gesien nadat ons verhouding verbreek is nie. Hy is ook nie
betroubaar nie en ek en hy sal nie ... kan saamwerk nie.” Sonika sukkel met
die laaste erkenning, haar woorde klink so kinderagtig.
“Ek kan dit glo ná die episode in die raadsaal.” Kobus se wrang opmerking
ontlok ’n ongemaklike glimlag van Sonika. Maar hy gaan vasbeslote voort.
“Kom ons kyk egter verby die emosionele en net na die feite. Ons het hulle
genader met die oog daarop om vir hul besigheid te tender. Ons sal almal in
’n stadium nie van ’n kliënt hou nie, maar dit beteken nie dat ons nie sy
regswerk kan doen nie. As hy onderduims in sy optrede is, dan onttrek ons
summier. Ek en Paul sal seker maak dat ons met hulle skakel, jy hoef geen
kontak met hom te hê nie. Al wat ons van jou vra, is jou regskundigheid en
jou ondersteuning.”
Hy praat die waarheid, besef Sonika. Sy het nie veel van ’n keuse sonder
om onvolwasse voor te kom nie. Sy is ervare genoeg om die situasie
professioneel te hanteer. Indien hy enige bymotiewe het, en sy twyfel nie ’n
oomblik daaraan nie, hoef sy nie daarby ingesleep te word nie.
Miskien het sy ook hierdie skoonmaakproses nodig om finaal die deur op
die verlede toe te maak. Sy kan Hanro opnuut waardeer. Daardie
verswelgende, allesoorheersende emosie wat deel van haar verhouding met
Michael was, wil sy nie weer in haar lewe hê nie. Sy mag ook nie haar
vriende en vennote hierdie geleentheid ontneem nie.
Sy het egter ’n voorwaarde voor sy instem. “Hierdie besluit beteken nie dat
ek nie regshulp aan minderbevoorregtes kan gee nie?”
“Glad nie. As jou werklas te groot word, stel ons addisionele prokureurs
aan.”
“Goed, dan doen ek my deel.” Sy maak die toegewing huiwerig. Oor die
implikasie van haar besluit sal sy later wonder. “Solank ek net so min
moontlik met hulle kontak het. Ek is ook jammer oor my optrede. Ek sal julle
nie weer in so ’n ongemaklike situasie plaas nie.”
Die mans lyk verlig toe hulle opstaan. Paul leun oor en gee haar ’n
drukkie. “Dankie, Sonika. Ons weet ons kan op jou staatmaak. Verskoon ons,
asseblief? Ek dink ons almal het baie werk wat wag.”
Sonika sak op haar stoel terug toe die deur agter hulle toegaan. Sy swaai
die stoel ritmies heen en weer, haar liggaam oënskynlik ontspanne terwyl die
een gedagte deur haar kop maal – sy hoop sy het nie rede om haar besluit te
berou nie.
Drie
’n Skril geluid ruk Sonika uit haar droomwêreld. Geïrriteerd reik sy na die
wekker langs haar bed. Haar vingers raak net ’n lugleegte. Sy dwing haar oë
oop en kyk rond. Tot haar verbasing lê sy op haar swart rusbank in haar
sitkamer. Dan onthou sy hoe sy die vorige aand hier neergeval het nadat sy
eers ná twaalf by die kantoor weg is.
Die geraas vererger en sy besef haar selfoon lui. Sy krap onder die rusbank
rond en kry die foon beet.
Monique se naam verskyn op die skerm. Drie dae is verby en sy het nog
nie op Monique se boodskap gereageer nie. Sy kon nog nie genoeg energie
bymekaarskraap om met haar vriendin te praat nie. Die ontmoeting met
Michael en die gebeure daarna het haar emosioneel gedreineer.
“Hoekom bel jy my nie terug nie?” raas Monique dadelik.
“Ek was besig.”
“Jy is altyd besig. Get a life, girl! Waar was jy gisteraand? Jou selfoon was
af en jou huisfoon het net gelui. Moenie sê jy het al weer laat gewerk nie? Of
miskien ...” Haar stem styg hoopvol. “Het jy Hanro dalk gelos en ’n nuwe
lover gekry? Vertel, asseblief, ek smeek jou. Is hy nou daar?”
Sonika sug. “Jy praat nonsens. Jy weet baie goed Hanro is my trouman.”
Monique snork minagtend. “Hopelik ontdek jy jou verstand voor jy tot
daardie dom stap oorgaan. Hoeveel keer moet ek jou nog vertel, hy is ’n koue
vis. Ek weet nie wat jy in hom sien nie. Ek het nog nooit ’n man gesien wat
nie eens behoorlik in die openbaar aan die vrou in sy lewe se hand vat nie.”
Sonika woel met haar hand deur haar los hare. “Hoeveel keer moet ek jou
nog vertel dat daardie deel nie vir ons belangrik is nie. Ons is goeie vriende,
nie tieners wat net op die fisieke ingestel is nie. In elk geval, op ons
ouderdom hoort sulke optrede in die privaatheid van jou huis.”
“Sê wie? Niks is fout met soentjies en drukkies nie, al is jy oor dertig. Selfs
al nader jy jou vyftigerjare soos jou Metusalem. As jy verlief is, dan wys jy
dit morning, noon and night. ’n Verhouding net gebou op vriendskap sal
iewers boring raak.”
Sonika besluit om die onderwerp te verander. Monique maak voortdurend
opmerkings oor Hanro se ouderdom of persoonlikheid en vanoggend is sy nie
lus vir hierdie ongemaklike gesprek nie. “Vertel my van jou nuwe liefde.”
Monique hoef nie twee keer genooi te word nie. Sy begin met ’n
breedvoerige beskrywing van Theo Wassenaar, ’n kunstenaar wat sy by ’n
ete ontmoet het.
Terwyl sy luister, stap Sonika na haar kamer en begin verklee.
“Raai wie het ek gisteraand by die social van die jaar raakgeloop?”
Sonika probeer nie eens raai nie, want sy weet die moontlikhede is legio.
Met Monique se uitgebreide sosiale kalender behoort sy elke tweede aand
iemand interessants raak te loop. “Ek gee op.”
“Jou hunk Michael Meskin, met die pragtigste poppie aan sy sy. Ek het nie
geweet hy is terug nie.”
Sonika leun teen haar kasdeur. Monique is op die hoogte van hul
voormalige verhouding. As ’n mens ’n koshuiskamer deel, is daar min
geheime.
“Hy is nie my hunk nie! Hy het ’n voorkeur vir dom blondines.” Sy is
dadelik spyt oor haar skerp opmerking. Monique sal meer daarin wil lees as
wat sy bedoel het.
“O ...” Monique is dadelik agterdogtig. “Hoe weet jy van die blondines?
As ek sy naam noem, word ek gewoonlik doodgepraat. Ek dog jy stel nie in
sy doen en late belang nie? En so by the way, ek is ook blond, miskien nie
natuurlik nie, maar ek waardeer nie jou blonde opmerkings nie. Ek is
allesbehalwe dom.”
“Jammer, veralgemenings is onregverdig,” gee Sonika toe en gaan
onnutsig voort: “Sal nie weer sê jy is dom nie.” Sy besluit om die gesprek af
te sluit, die huidige onderwerp is ook taboe. “Luister, ek moet klaarmaak. Ek
wil nog stort en ontbyt eet.”
Monique lag tevrede. “Jy probeer die onderwerp vermy. Jy gaan nou
daarmee wegkom, want ek het ’n guns nodig. Vrydag hou Theo ’n uitstalling.
Ek verwag jou daar.”
Sonika protesteer onmiddellik. “Jy weet ek en Hanro het elke Vrydag ’n
eteafspraak by sy huis en ons hou nie daarvan om ons roetine te verander
nie.”
“Tough, bring hom saam, of ek reël vir jou ’n blind date met Theo se
vriend.”
“Jy weet hy hou nie van uitstallings nie en kry maar die idee van ’n toe-oë-
afspraak uit jou kop. Ek stel nie belang nie.”
“Ek hoor jou. Jy skuld my egter vir die makeover wat ek vir jou kliënt
gereël het. Dis tyd om te betaal, met of sonder Hanro.”
Sonika besef sy kan nie anders nie. Monique het ’n volledige
mooimaaksessie vir een van haar behoeftige kliënte ná haar egskeiding gereël
sonder om ’n sent te vra.
Hanro gaan nie gelukkig wees nie. Gisteraand met hul gewone afspraak vir
drankies ná werk, kon sy sien hy was verward oor haar vreemde bui. Sy wou
hom van Michael vertel, maar nêrens kon sy die regte woorde vind nie. Sy is
terug kantoor toe sonder om hom daarvan te sê.
“Ek sal daar wees, e-pos net die uitnodiging.”
“Dankie, pel, het geweet ek kan op jou staatmaak. Sien jou môreaand.”

Sonika ry vir die derde keer om die blok. Nêrens sien sy ’n parkeerplek naby
die kunsgalery nie. Dit lyk amper asof al die inwoners van Johannesburg by
die uitstalling is. Miskien beteken dit dat Theo ’n bekende kunstenaar is. Sy
hoop so vir Monique se part.
Skielik trek ’n motor uit ’n parkeerplek naby die gebou en sy trek vinnig
daar in. Sy klim uit en beskou die versameling sportmotors om haar. Die
jappies van Johannesburg is behoorlik verteenwoordig. Theo se skilderye
behoort vinnig te verkoop.
“Sonika!” Monique verskyn in die deur van die galery. Soos altyd lyk sy
indrukwekkend, en vanaand het sy ’n noupassende rooi rok met ’n
flambojante serp om haar nek gedrapeer. Haar kort, wilde kapsel is
donkerblond met rooi strepe gekleur en haar grimering pas perfek by haar
dramatiese voorkoms.
Monique gee haar ’n drukkie en staan dan terug om haar krities te bekyk.
“Ag nee, Sonika, ek het so gehoop jy doen iets anders vir vanaand. Hoekom
al weer die boring swart uniform?”
Sonika haal haar skouers op. Sy is nie verbaas oor haar vriendin se
kommentaar nie, maar steur haar nie daaraan nie. Daar is niks fout met haar
swart langbroek en swart sybloes nie. Haar hare hang los op haar skouers en
toe sy laas in die spieël gekyk het, het sy heel skaflik gelyk. “Regtig,
Monique, jy is nie goed vir my selfbeeld nie,” skerts sy.
Monique haak by haar in en stap na binne. “Jy het iemand nodig om jou
terug aarde toe te bring. Jou suksesvolle prokureur-image gee jou ’n te groot
kop.”
’n Geamuseerde Sonika kyk nuuskierig rond. Sy hoop haar vennote is ook
hier.
Monique gee haar nie kans om te talm nie, maar trek haar in ’n rigting.
“Kom, ek wil jou gou aan Theo voorstel. Jy sal mal wees oor hom.”
Monique kom onverwags tot stilstand en Sonika stop betyds. Dan kry sy
die vreemde gevoel dat iemand na haar kyk. Sy kyk oor Monique se skouer,
vas in kilblou oë, dieselfde paar oë wat sy in haar dom stadium mooier as die
hemelruim beskryf het.
Sy hoor Monique se verskonende stem op die agtergrond. “Oeps, ek het
vergeet ... Michael en kie is ook hier. Theo het hulle uitgenooi toe ons hulle
nou die aand ontmoet het. Hulle is daar by hom.”
Sy kan nie antwoord nie. Sy staar net vasgenael na Michael terwyl haar
onderbewussyn onsuksesvol worstel teen die verlammende uitwerking wat hy
op haar het. Haar hart druk haar keel toe en haar verstand protesteer
luidkeels. Sy is nie eens ’n minuut in sy teenwoordigheid nie en sy reageer
so! Dis om van mal te word!
Sy houvas word eers verbreek toe hy na die beeldskone blonde meisie
langs hom kyk wat probeer om sy aandag te trek.
“Dankie vir die tydige inligting.” Sonika se stem is skerp toe sy weer in
staat is om te praat. “Ek geniet nie sulke verrassings nie!” Sy draai in die
teenoorgestelde rigting. “Ek sal Theo later ontmoet. Ek gaan Paul-hulle
soek.”
Voor sy deur die mense kan beur, kry Monique haar aan die skouer beet.
“Sonika ...” Haar stem is pleitend en sy het ’n vreemde uitdrukking op haar
gesig. “Moenie ’n lafaard wees nie. Wys hom hy beteken niks vir jou nie, so
kan jy wraak neem vir die seer van die verlede.”
Sonika hou nie van die verskuilde boodskap nie. Probeer Monique sê sy
het nog onderdrukte gevoelens vir die man? Dis nie waar nie! Haar rasionele
denke het klaar ’n verduideliking gereed – hy het dalk ’n fisieke uitwerking
op haar, maar dis net ’n normale, vroulike reaksie. Michael is ’n besonderse
man wat enige vrou se knieë sal lam maak.
Sy moet egter hierdie geleentheid gebruik om te vergoed vir die blaps van
die vorige ontmoeting. Nou kan sy vir hom wys hy ontsenu haar nie, hoewel
dit ver van die waarheid is.
Sonika knik instemmend, maar volg haar vriendin traag. Hulle sluit by die
groepie van vyf mense aan.
Monique stel almal voor. Theo maak ’n goeie indruk op Sonika. Hy is ’n
lang, maer man met ’n oop, aantreklike gesig, gemaklik geklee in ’n wit
baadjie, swart broek en wit hemp. Glad nie die prentjie van ’n boheemse
armsalige kunstenaar wat sy in haar kop gehad het nie. Hy omhels Sonika
hartlik.
Monique draai na Michael en sy blonde metgesel. Michael dra ’n
donkerblou baadjie en ’n kakiebroek. Hulle groet mekaar kil. Sy vriendin,
Jessica Steele, is ook nie opgewonde om haar te ontmoet nie. Graeme is
minder kil as die vorige keer, maar loop nie oor van vriendelikheid nie. In
teenstelling daarmee is sy vrou vriendelik.
Sonika neem die glasie sjerrie wat Theo vir haar uithou en volg hulle
gedwee toe Theo aanbied om hulle rond te neem.
By die tweede skildery beland sy langs Michael en sy vriendin.
Theo brei uit oor sy kunswerk, maar Sonika hoor nie wat hy sê nie. Sy
konsentreer daarop om selfversekerd en terselfdertyd ongeërg langs Michael
te staan, maar sy bly oorbewus van al sy bewegings.
Toe dit ’n oomblik stil is, hoor sy Monique met haar praat. “Waar is
Hanro, Sonika? Theo wou hom so graag ontmoet.”
Sonika frons verward. Wat gaan nou aan? Monique weet Hanro sou nie
kom nie.
Almal se oë is nou op haar gerig en sy dink vinnig aan ’n antwoord. “Hy
het ’n ander afspraak gehad.” Sy sluk ongemaklik. Die leuen het maklik oor
haar lippe gekom. Monique lyk kamtig teleurgesteld en Sonika besef sy het
nog nie haar doel bereik nie, wat dit ook al mag wees.
“Ag nee,” Monique simpatiseer oordrewe, “moes hy al weer werk?”
Sonika kyk hierdie keer venynig na haar vriendin, maar sy brei ongeërg
uit: “Sonika se vriend is een van die bekwaamste advokate in die stad. Om
die waarheid te sê, die balie wil hom vir ’n regterspos aanbeveel.”
Jessica is dadelik vriendeliker. Sy vra belangstellend, asof sy al die
advokate in Johannesburg persoonlik ken: “Wie is jou vriend, juffrou Du
Plessis?”
Sonika besluit dis ’n geleë oomblik om ’n bietjie te oordryf toe Michael
haar aangluur. Sy kyk nie na Monique toe sy sê nie: “Eintlik my verloofde,
Hanro Kloppers.”
“O?” Die blondine lyk baie tevrede met die nuus. “Maar jy dra dan nie ’n
verloofring nie.”
Almal kyk na haar kaal vingers wat verbete om die swart aandsakkie klou.
“O nee.” Monique neem weer selfvoldaan oor. “Sonika is een van daai
moderne vroue. Sy glo nie aan die dra van ’n verloofring nie en ...” Monique
se stem styg dramaties. Sy het nou die volle aandag van haar gehoor en sy
buit dit behoorlik uit. “Sonika gaan ook nie haar nooiensvan ná haar troue
verander nie. Sy beskou dit as simbole van die vrou se onderdanigheid aan ’n
man.”
Sonika is oortuig daarvan dat die mense nie meer geskok sou wees as
Monique hulle ingelig het sy is ’n transvestiet nie.
“O nee!” Die ontstelde blondine dwing die woorde oor haar perfekte rooi
lippies en Sonika kan omtrent sien hoe die paar blonde breinselletjies oortyd
werk om die inligting te verwerk. “’n Women’s libber ...”
Sonika sug gelate. Haar vriendin gaan later jammer wees as sy klaar is met
haar! Sy skilder ’n oordrewe beeld van haar menings. “Ek is nie ’n radikale
feminis nie, maar ek het wel sterk standpunte oor vroueregte. In my beroep
ding ons mee in ’n wêreld wat deur mans oorheers word, daarom is dit vir my
belangrik om my eie identiteit te behou, waarvan geen verloofring en trouvan
deel is nie. Dit beteken geensins dat ek my vroulikheid ontken nie.” Sonika
moet gereeld haar mening hieroor lug, daarom kan sy haar gehoor se reaksie
voorspel.
Jessica kyk plegtig na Michael. “Ek sal nooit nee sê vir ’n diamantring nie,
en ek is meer as gelukkig om ondergeskik te wees aan die man deur sy van
aan te neem.”
Michael glimlag en sit sy arm liefdevol om haar skouer. Hy kyk met koue
blou oë na Sonika. “Is jy bereid om kinders te hê, of is dit ook ’n teken van
jou ondergeskiktheid?”
Sonika gee ’n sweem van ’n glimlag, maar heimlik is sy verbaas oor sy
vreemde vraag. “Geensins. Wanneer dit my pas, sal ek kinders hê, maar op
die voorwaarde dat ek met my beroep voortgaan.”
Dit blyk die finale strooi vir Michael se vriendin te wees. Sy snak na haar
asem asof Sonika pas gelaster het. Michael se liggaamshouding is stram.
Sonika kon nog nooit die bohaai oor haar standpunte verstaan nie. Hulle
leef nie in die Middeleeue nie, maar die argument gaan sy nie nou verder
debatteer nie. ’n Ongemaklike stilte heers.
Monique stoot Theo in die rigting van die volgende skildery. Hy kry die
boodskap en begin vinnig met ’n bespreking van die werk.
Sonika besluit ook dat dit die ideale tyd is om pad te gee. “Verskoon my,
Paul-hulle roep my ...” lig sy hulle in en stap in die rigting van haar kollega
en sy vrou, wat op daardie oomblik tussen die mense verskyn.
Paul se vrou soengroet haar en Sonika neem albei aan die arm en beweeg
in die teenoorgestelde rigting van die ander groep terwyl sy geesdriftig
kommentaar lewer oor die werke voor hulle.
’n Uur later groet Sonika haar vriende en ontsnap na buite. Sy klim met ’n
sug van verligting in haar motor en skakel dit aan. Die motor is morsdood en
ná vele probeerslae skree sy hardop van frustrasie. Sy het net nog dit nodig
om ’n behoorlike mislukking van die aand te maak. Dit was ’n marteling, sy
hoop nie sy hoef ooit weer so iets deur te maak nie.
Sy klim uit en maak die enjinkap oop. Sy weet Betsie is naby die einde van
haar leeftyd en haar frustrasies gaan niks daaraan verander nie.
Sy ondersoek die plekke in die enjin wat gewoonlik ’n probleem
veroorsaak. Met haar kop diep onder die enjinkap in kom sy skielik agter
iemand staan naby haar. Waar sy andersins sou skrik, kyk sy net op toe sy die
reuk van Michael se naskeermiddel kry.
“Kan ek help, of is dit teen jou beginsels om hulp van ’n man te aanvaar?”
Hy kyk haar half spottend aan en sy wonder of sy haar verbeel dat hy besorg
geklink het.
Sy lek senuagtig oor haar droë lippe. “Ek is reg, dankie. Sy behoort nou te
vat.”
Terselfdertyd bid sy dat Betsie haar reg sal bewys. Sy moet wegkom. Sy
teenwoordigheid krap haar om. Versigtig skuur sy by hom verby en klim in.
Deur haar voorruit sien sy Jessica waar sy met ’n gefrustreerde uitdrukking
teen ’n Lamborghini leun. Sy draai die sleutel en haar getroue voertuig vat
sowaar.
Sy kyk weer in die intense blou oë bokant haar oop deur.
“Dan sien ons julle Vrydag?”
Sonika weet hy verwys na die afspraak wat haar vennote gemaak het. Sy
antwoord met ’n selfvoldane glimlag: “Ek is die hele week in die hof. Paul en
Kobus sal egter daar wees.” Sy was dankbaar vir die geldige verskoning toe
die afspraak gefinaliseer is. Dit pas in by haar planne om hom te vermy.
Planne loop net skeef wanneer jou vriendin jou nie na behore inlig nie, dink
sy met misnoeë.
Michael sê niks, maak net die motordeur toe en staan terug.
Sonika sien in haar truspieëltjie hoe hy haar agternastaar. Om die volgende
hoek stop sy langs die pad. Sy laat haar kop teen die stuurwiel sak. Wat is
besig om met haar te gebeur? Sy het geglo dat as sy hom weer raakloop, sy
dit met gemak sal kan hanteer, en al wat sy nou ervaar, is ’n oormaat van
verwarring en onsekerheid. Hy is nie veronderstel om steeds so ’n invloed op
haar te hê nie. Hy het haar diep seergemaak. Vyftien jaar is ook ’n leeftyd. Sy
moes die bekoring wat hy vir haar inhou, ontgroei het. Moedeloos skakel sy
Betsie aan. Dit sou help as sy hom net uit haar gedagtes kon weer. Sy sien
moeilike dae vir haar voorlê as sy dít nie ten minste regkry nie.
Vier
Op pad na haar ouerhuis besef Sonika dat dit ’n dom besluit was om daar te
gaan kuier. Daar wag te veel herinneringe en sy weet nou dat dit nie so
eenvoudig is om die verlede in die oë te staar nie.
Terwyl sy vir die staalhek wag om oop te gaan, beskou sy die vooraansig
van die dubbelverdiepinghuis. ’n Outydse styl, maar steeds een van die
indrukwekkendste huise in die omgewing. In haar kinderjare was haar
ouerhuis ’n plek van geborgenheid. Nie nou meer nie, nie ná wat hier gebeur
het nie.
Sy bring haar motortjie voor die hoofingang tot stilstand, presies daar waar
Michael die eerste keer met sy motorfiets gestop het.
Hier het dit alles begin, en miskien, as sy bitter eerlik is, sal sy nie die
verlede wou verander nie. Sy moes die pad van vernedering en pyn stap om
die ware Sonika te leer ken. Die leerskool was duur, maar sy het geleer hoe
om teleurstelling en verwerping te bowe te kom.
Sy stap stadig om die huis. Sy is vroeg en haar ma ontvang geen gaste voor
die afgesproke tyd nie. Hanro kom gewoonlik saam, maar hy is vanoggend
Bloemfontein toe vir ’n appèlhofsaak die komende week. Sy voel steeds
ongemaklik omdat sy bly was toe sy hoor hy is vir ’n ruk uitstedig.
Die swembad lê blou voor haar, ’n pragtige prentjie saam met die goed
versorgde grasperk en tuin. Sy trek haar swart sandale uit en steek haar voete
in die water. Die koue daarvan vou verfrissend om haar voete.
Sy byt op haar onderlip, maar niks kan die herinneringe langer keer nie.
Dit voel amper soos gister toe haar ouers na hul vakansiehuis op
Plettenbergbaai is en sy die geldige verskoning gehad het dat sy vir haar
komende eindeksamen moes studeer en nie kon saamgaan nie. Haar
verhouding met Michael was steeds ’n geheim. Sy was heeltyd bang hulle
kom daarvan te hore, hulle sou dit nooit goedkeur nie. Sy is skaam vir hom,
het Michael gereeld gespot. Hy het egter nie haar ouers soos sy geken nie.
Sy en Michael was alleen die aand. Sy ma was met vakansie, die res van
die personeel van diens af. Sy het die hele Saterdag studeer, maar laat die
aand het sy Michael omgepraat om saam met haar langs die swembad te
kuier.
Hulle het pizzas geëet en rooiwyn gedrink. Die wyn het bygedra tot haar
ongekende bravade. In normale omstandighede sou sy seker nooit so ’n
uitnodiging gerig het nie.
“Kom ons swem kaal ...”
Hy het vies gereageer. “Jy is mal, meisiekind! Jy soek moeilikheid!”
Sy het hom uitgelag, sonder meer haar klere uitgetrek en in die swembad
ingeduik. Sy het hom uit die swembad gekoggel. “Is jy dalk skaam, of is jy
bang vir die koue? Wys my jy is ’n man, nie ’n muis nie.”
Hy het nie veel van ’n keuse gehad nie en het ook uitgetrek en ingeduik.
Hy het tot by haar geswem, haar speels beetgekry en onder die water
probeer druk. “Dis wat ’n man met ’n muis soos jy maak.”
In ’n poging om bo te bly, het sy haar arms om sy nek gesit. Met haar
liggaam so styf teen syne het sy die eerste keer besef wat hy met moeilikheid
bedoel – sy sterk, jong lyf het onteenseglik op haar nabyheid gereageer. Sy
kon haarself ook nie keer nie. Haar lippe het liefkosend oor sy gesig beweeg,
sy het die waterdruppels op sy ken afgelek en haar hande het oor sy perfekte
liggaam beweeg. Hy het hoorbaar gekreun en haar nog stywer teen hom
vasgetrek. Hy het besit geneem van haar mond ... en later van haar liggaam.
Hy was ’n wonderlike minnaar. Hy het haar eerste ervaring iets besonders
gemaak.
Veel later het hy haar styf vasgehou, haar heeltyd vertel hoe spyt hy was.
“Ek is jammer, ek is jammer ... dis my fout, ek het nie bedoel om so ver te
gaan nie ... dit sal nie weer gebeur nie ...”
Vir haar was dit ’n spesiale ervaring, hoe kon sy spyt wees? Spyt het egter
later gekom en sy moes op die harde manier leer hoe naïef sy nog was. Sy het
’n paar weke later vermoed sy is swanger.
Sy het Michael dadelik by sy werk gebel en hy was die volgende oggend
by haar koshuis.
Hy was ook benoud. “Was jy by ’n dokter?”
Veilig in sy omhelsing kon sy net haar kop skud.
“Moet ek jou na een neem?” Hy het haar effens weggestoot en bekommerd
na haar gekyk.
“Ek mag nie die skoolterrein verlaat nie en moet die inwonende dokter
eerste raadpleeg. Sy sal onmiddellik my ouers laat weet. Ek sien nie nou
daarvoor kans nie.”
Sy het pleitend na hom gekyk en hy het instemmend geknik. Hy het haar
vrese aanvaar, hoewel hy dit nooit kon verstaan nie.
Hy het haar gevra om met hom te trou. Sy het ’n fyn verloofringetjie as
teken van sy verbintenis gekry.
“Ons kan in ’n mynhuis bly tot ek my graad behaal het en dan stad toe trek.
Ek sal vir jou en ons kind sorg terwyl jy studeer.”
Sy was meegevoer deur die romantiese prentjie wat hy geskilder het.
Hulle sou haar ná haar eksamen by ’n dokter kry, wanneer albei weer by
haar ouerhuis was. Dan sou hulle ook haar ouers inlig. Die laaste gedagte het
haar die bangste gemaak. Haar ouers het groot toekomsdrome vir haar gehad
om regte in Kaapstad te studeer. Hulle sou nie maklik haar beoogde huwelik
en ’n kind aanvaar nie.
Tyd het egter haar onskuldige, romantiese drome stelselmatig verwoes.
Kort daarna het haar ma die ring in ’n kettinkie om haar nek raakgesien. Sy
wou weet wat dit beteken en Sonika moes met die mandjie patats vorendag
kom.
Haar ma was histeries. Sy het die kettinkie afgeruk terwyl sy Sonika
uitgeskel het. Haar pa het beheer geneem en hul huisdokter gebel.
Die dokter het hulle ná ’n deeglike ondersoek ingelig dat dit nie ’n
swangerskap was nie, maar bloot ’n normale liggaamlike reaksie op
spanning.
Sonika kon nie onmiddellik die inligting verwerk nie en is ook nie die kans
gegun nie. Haar ouers het geweier dat sy met Michael praat. Haar pa het haar
verseker dat die situasie ná haar eksamen bespreek kon word. Sy was tydelik
daarmee tevrede. Niks sou haar keer om met hom te trou nie. Sy moes egter
in gedagte hou dat sy minderjarig is.
Terug by die skool is sy soos ’n gevangene opgepas. Sy kon nie wag om
Michael weer ná die eksamen te sien nie, dankbaar dat hul verhouding nie
meer ’n geheim was nie. Sy het vasgeklou aan die gedagte dat niks hulle weer
sou skei nie.
Die dag ná haar laaste vraestel het haar ouers vir haar gewag. Sonder enige
emosie het haar pa ’n tjek en ’n dokument na haar uitgehou.
“Wat is dit?” Sy kon nie dadelik die boodskap snap nie.
“Meskin was twee weke gelede by ons huis. Ek het hom halfmiljoen
aangebied om uit jou lewe te bly en hy het dit aanvaar.” Haar pa het na die
dokument in haar hand gewys. “Kyk, hier is die onweerlegbare bewyse dat
hy ’n swendelaar is.”
Sy het geskok daarna gekyk. Die tjek is twee dae nadat dit aan hom
uitgemaak is, gewissel, en die handtekening op die ooreenkoms was
onteenseglik syne. Sy wou dit steeds nie glo nie.
“Wat probeer julle hierdeur bereik?” Intense pyn het haar liggaam laat
saamtrek. Sy het hulle aangestaar met trane wat vlak lê.
Haar ma het haar blik vermy, maar haar pa was meedoënloos. “Ons het jou
van ’n enorme fout gevrywaar.”
“Dis nie waar nie ...” Haar trane het onbeheers begin loop. “Hy is lief vir
my ...” Maar haar woorde het onseker geklink. Sy het ook begin twyfel.
“Jy is nog ’n onervare kind, Sonika.” Haar pa het sy kop meewarig geskud.
“Jy bevraagteken my woord en glo aan die integriteit van hierdie karakter
waarmee jy jou vereenselwig het! Watter bewyse het jy nog nodig? Bel sy
werk en besluit finaal.”
Haar pa het gesorg dat sy Michael se werk bel. Michael het bedank en het
geen kontakbesonderhede agtergelaat nie.
Sy kon nie meer teen die feite stry nie. Sy is gewillig saam met haar ma
Londen toe om by haar tante te gaan kuier.
Sy het Elise in die hande probeer kry, maar ’n nuwe huishoudster was by
haar ouers in diens. Elise het ook verdwyn.
Stadig maar seker het sy besef watter massiewe oordeelsfout sy gemaak
het, en asof haar gees nie langer die gedagte kon dra nie, het sy kort daarna ’n
ineenstorting gehad. Sy is in ’n kliniek opgeneem en het ’n halwe mens daar
uitgekom, terapie en pille was die krukke wat haar gehelp het om regop te
bly.
Ondanks haar wisselvallige gemoedstoestand het sy haar studie begin.
Haar eerste jaar se uitslae was swak. Pleks van klas bywoon, het sy op die
strand rondgedwaal.
Maar op dieselfde strand het sy die eerste tree na nuwe betekenis in haar
lewe gegee. Daar het sy op ’n huilende bondeltjie mens afgekom. Die vrou
het oor haar lewe begin praat. “My man mishandel my en my kinders. Ek het
geen inkomste nie, anders kon ek van hom weggaan. As ek hom by die
polisie aankla, sit ek op straat. Wat moet ek doen?”
Sonika kon net luister, sy het nie antwoorde gehad nie. ’n Saadjie is egter
geplant en sy het ’n doel in haar lewe gevind.
In haar tweede jaar het sy haar by die Vroueregskliniek aangemeld waar sy
by sulke gevalle kon betrokke raak. Sy het haar klerkskap by die kliniek
voltooi en later daar begin werk. Die salaris was power, maar sy kon haar
lewensdoel uitleef deur die hulp wat sy aan minderbevoorregte vroue kon
bied.
Haar idealisme het ’n vuishou gekry toe ’n woedende man van ’n kliënt
haar so geslaan het dat sy in die hospitaal beland het. Paul het een oggend by
haar hospitaalkamer ingestap. Hy was geskok oor die gebeure en het spesiaal
afgevlieg om haar te besoek. Hy het haar ’n aanbod gemaak. “Kom
Johannesburg toe. Ek en Kobus het jou nodig, ons praktyk brei uit en ons het
jou litigasie-ervaring nodig.”
Sy het eers geprotesteer. “Ek sien nie kans vir heeldag kontrakte opstel en
in die hof daaroor litigeer nie. Ek moet ’n tasbare bydrae lewer, anders word
dit net nog ’n werk.”
“Jy kan dit steeds daar kom doen. Ons sal jou praktyk aanpas sodat jy ook
behoeftige gevalle kan hanteer terwyl jy ons met ons gewone litigasiewerk
help.”
Sy was op ’n laagtepunt en het ingegee. Sy het bedank en ’n maand later
verhuis.
“Sonika!” Haar ma se stem is skerp, soos altyd. “Klim uit die swembad,
die kos gaan voorgesit word. Ek wag net vir jou.”
Sonika kom stadig orent en draai na haar ma. Sy is perfek geklee in ’n
moderne tweestuk, nie ’n grys haar uit sy plek nie.
“Middag, Ma.” Sonika gee haar ’n ligte piksoentjie op die wang. Sonja laat
nie fisieke kontak toe nie. Hanro is met ope arms in die gesin verwelkom
omdat hy die regte kwalifikasies en dieselfde onemosionele benadering het.
Sonika onderdruk vinnig dié onaangename gedagte. Sy moet versigtig wees
om nie deur Monique geïndoktrineer te word nie.
Hulle stap in die rigting van die huis.
“Jou pa is nie hier nie. Hy is op kort kennisgewing Kaapstad toe geroep vir
die regtersonderhoude. Hulle oorweeg hom vir die hoofregterspos.” Haar ma
klink selfvoldaan.
“Ma het my vertel.” Sonika vat die handdoek wat die huishoudster uithou,
droog haar voete af en trek haar sandale aan voor sy in die huis instap.
Haar ma is nie klaar met haar berisping nie. “Moenie snipperig wees nie.
Ek hou nie van jou houding nie. Vandat jy terug is, sukkel ek om met jou te
kommunikeer.”
Sonika haal haar skouers gelate op. Sy is nie lus vir ’n argument oor haar
sogenaamde houding nie. Sy skep kos in en vul haar glasie met witwyn. “Ek
het dié week vir Michael Meskin raakgeloop.”
Sy praat voor sy dink. Hoekom sy haar ma daarvan sê, weet sy nie.
“O?” Haar ma lyk ’n oomblik ongemaklik, maar steek terstond haar neus
op haar kenmerkend hovaardige manier in die lug. “Ek neem aan jy gaan nie
met hom kontak hê nie. Jy het seker nou daarmee vrede gemaak dat hy ’n
fortuinsoeker is.”
Sonika kan nie help om te lag nie. “Fortuinsoeker? Ma, hy het in hierdie
stadium meer geld as wat hy in een leeftyd kan opgebruik.”
“Irrelevant, hy was een gewees, en ek hoop jy het genoeg verstand om hom
te vermy. Ons sal nie enige kontak met hom goedkeur nie en ons kan seker
aanvaar hy sal by sy deel van die ooreenkoms bly.”
Sonika verstik byna aan die eerste slukkie wyn. “Verskoon my, het ek reg
gehoor? Van wanneer af het ek julle goedkeuring vir my doen en late nodig?”
Die feit dat sy self besluit het om Michael te vermy, is onbelangrik, en dalk
oorreageer sy, maar haar ouers gaan nie weer aan haar voorskryf nie. “Ek wil
ook niks verder van daardie belaglike ooreenkoms hoor wat julle met hom
gesluit het nie!”
Haar ma probeer die skade herstel. “Ek het dit nie so bedoel nie. Wat ek
eintlik wou sê, is dat Hanro nie daarvan sal hou nie.”
Dis verdere vet op die vuur. Sonika gooi haar servet op haar bord waar
haar kos nog onaangeraak is. Bitterheid meng met die wynsmaak in haar
mond. Haar eetlus is daarmee heen.
“Niemand skryf aan my voor nie. Hanro probeer nie en julle moet dit nie
waag nie. Verskoon my, Ma, ek is nie meer honger nie.”
Vir die eerste keer in haar lewe verlaat Sonika haar ouerhuis halfpad deur
’n ete.
Vyf
Teen middagete besluit Sonika dat die Maandag besonder blou is. Die
opposisie het teen haar sin om uitstel gevra en die saak kom nou ’n maand
later voor. By die kantoor het ’n lessenaar vol probleemlêers gewag waarmee
sy nie kan vorder nie. Die kliënt se situasie lyk benard en haar gedagtes bly
afdwaal.
Sy trek die koppie tee op haar lessenaar nader en neem ’n sluk. Die koue
tee is onsmaaklik en sy stoot die koppie vies weg.
Haar lewe is buite beheer en sy hou nie daarvan nie. Ná gistermiddag se
onaanvaarbare gedrag gaan haar ma vir weke nie met haar praat nie, haar
amper verloofde is ongelukkig met haar afgewaterde aandag, haar beste
vriendin stel haar bloot, en die ergste van alles, die man verantwoordelik vir
haar gebroke hart, is terug in haar lewe. En sy het hierdie irriterende gevoel
dat laasgenoemde die grootste rede vir die gevoel van chaos in haar lewe is.
Sy tik onrustig met haar pen op die lessenaar. Sy het ’n aksieplan nodig om
haar lewe weer op koers te kry.
Sy trek haar skootrekenaar nader. Sy sal begin deur blomme vir haar ma te
stuur. Per e-pos reël sy dit met een van die tiksters. Haar boodskap sal net
haar spyt uitspreek vir haar swak maniere, nie vir haar woorde nie. Daarby
volstaan sy.
Haar volgende stap is ’n e-posboodskap aan Hanro, hy het altyd sy
skootrekenaar by hom.
Sy frons. Hoe moet sy haar uitdruk? Soetsappigheid het nie plek in hul
verhouding nie, hulle gebruik nie eens troetelname nie. Sy oorweeg “Liefste
Hanro” as aanhef, tik die woorde en staar ontevrede daarna.
Haar selfoon lui. Dis haar vriendin, die verraaier. Sy was volgende op die
lys. Sonika val onmiddellik aan. “Ek weet nie of ek ooit weer met jou wil
praat nie, jy is nie die naam vriendin werd nie.”
Monique lag onbeskaamd. “Jammer, pel, ek het nie bedoel om jou so bloot
te stel nie, maar daardie klomp stywenekke was eens te veel vir my, ek moes
hulle ’n bietjie opwarm.”
“Dankie vir niks, reël volgende keer ’n ander nar.”
“Sons, chill net. Jy het jou eie graf gegrawe deur voor te gee jy is kamtig
verloof. Ek het net so ’n bietjie gehelp om hulle iets te gee om oor te dink. Ek
weet jy hou daarvan om konserwatiewes te skok.”
“Ag, asseblief, probeer daardie benadering op iemand anders.” Sonika
maak ’n minagtende geluid. “Die geleentheid was nie gepas nie.”
Monique probeer paai. “Theo is darem mal oor jou. Hy wil hê ons moet
iewers saam gaan eet sodat hy jou en Hanro beter kan leer ken.”
Sonika frons verbaas. Monique en Hanro langs een tafel is nie ’n
aptytwekkende kombinasie nie. “Hanro is vir twee weke in Bloemfontein.”
“Bakgat! Ek is lankal lus vir ’n girls’ night en met hom uit die omgewing
het jy geen verskoning nie. Wat van Woensdag?”
“Jy weet dis nie my idee van ontspanning nie.”
“Komaan, dis net wat jy nodig het voor jy met Mister Boring settle, en jy
kan my sportmotor bestuur.” Monique het twee maande gelede ’n nuwe
sportmotortjie aangeskaf en Sonika skimp gereeld vir ’n geleentheid om die
motor te bestuur. Haar vriendin ken haar swakheid vir vinnige motors.
Ná ’n lang oorweging stem Sonika in. ’n Aandjie saam met haar vriendin
kan seker nie skade doen nie. Dis dalk net wat sy nou in haar sombere
gemoedstoestand nodig het.
“Fantasties, ek kom haal jou seweuur. Onthou net, dress down, en geen
swart klere nie. Ons woon nie ’n begrafnis by nie.”
Sonika groet en met ’n breë glimlag trek sy die lêer nader. Monique weet
hoe om haar op te beur en sy moet erken, sy sien nogal uit na ’n lawwe aand
saam met haar vriendin. Sy hoop sy weet nog hoe om dit te doen. Sy sal
Hanro vanaand bel.

“Wat is op die agenda?” Sonika skuif agter die stuurwiel van die sportmotor
in en trek versigtig weg.
“Volg my aanwysings. Ons gaan eers eet, dan manne jag.”
Die motor versnel onbeheers toe Sonika geskok na haar vriendin kyk.
“Net ’n joke.” Monique lag. “Ná ete maak ons ’n draai by die Prisma-
nagklub, dis die plek waar jappies gesien word, nie die uithangplek vir spoilt
teenagers nie. En as daar ’n paar verveelde ryk mans rondhang, soveel te
beter.”
Sonika snork onvergenoeg, maar Monique gaan onverstoord voort: “Ten
minste lyk jy vanaand ’n bietjie beter.” Sy beloon Sonika se jeans en
denimbaadjie met ’n goedkeurende blik. “Met ’n lyf soos joune moet jy
permanent jeans dra. Ek kon nog nooit verstaan dat ’n skoonheid soos jy so
min moeite met haar voorkoms doen nie en dan ook heeldag in swart
rondloop nie.”
Sonika lag terwyl sy die motor voor haar verbysteek. “Dis ’n ongelooflike
motor! Dink jy ek sal een kan bekostig as ek ophou klere en kruideniersware
koop?”
“Eat your heart out, girl! Jy was op skool gesien as die meisie met die
grootste kans om sukses te behaal, en nou is dit jou dom vriendin wat haar
ware kleure wys. Regs hier voor,” beduie sy.
“Gee my nog ’n paar jaar, dan staan ’n sportmotor in my motorhuis.”
“Miskien as jy die dag aftree, of jou ouers se geld erf.” Monique beduie
weer. “Parkeer hier voor. Die restaurant is in die gebou.”
Sonika herken die naam van die restaurant. Sy was self nog nooit hier nie,
maar het gehoor van die plek se gewildheid onder die jong rykes.
“Sal hulle ons in ons jeans toelaat?” Sonika kyk benoud na hul kleredrag.
Monique dra swart jeans met ’n wit bloes.
“Chill, Sonika. Ek is gereeld hier en al wat hulle interesseer, is die kleur
van jou kredietkaart.”
Sonika vermoed sy oordryf, maar volg haar gedwee.
Hulle word vriendelik ontvang en flink na hul bespreekte tafel geneem.
Die restaurant is deftig, maar met ’n ontspanne atmosfeer en Sonika verstaan
die plek se gewildheid. Die meeste gaste is ook gemaklik geklee en Sonika
ontspan toe sy gaan sit.
Voor Sonika nog deur die wynlys kan gaan, bestel Monique Franse
sjampanje. Sonika ys toe sy die prys sien en staar Monique geskok aan.
Monique haal net haar skouers ongeërg op. “Ons het iets om te vier, dis my
treat.”
Die kelner bring ’n paar minute later die bottel en skink.
Sonika neem ’n teug en sug beïndruk terwyl sy behaaglik agteroor leun.
Die sjampanje borrel heerlik op haar tong.
Monique stel ’n heildronk in. “Op ons girls, mag ons lank die wêreld
regeer.”
Sonika drink daarop. Hulle bestudeer die spyskaart. Sonika besluit op ’n
mosselsop en Monique kies ’n seekoskelkie.
Toe die voorgereg gebring word, is albei besig met hul tweede glasie
sjampanje. Sonika voel hoe die spanning van die afgelope week uit haar
liggaam vloei. Sy besef die alkohol dra grootliks daartoe by, maar in dié
stadium kan sy nie meer omgee nie. Die aand strek heerlik voor haar uit.
Monique verstyf en staar na die ingang. “Moenie nou kyk nie, maar
Michael het pas ingestap.”
Sonika sit penregop en klou haar soplepel met ’n bewerige hand vas. Sy
moet hard konsentreer om nie om te kyk nie. “Saam met sy blondine?”
“Nee, ’n man. Ek kan nie sien wie dit is nie. Hy lyk bekend.” Monique
begin onbedaarlik giggel. “Liewe hemel, daardie hunk van jou kan darem ’n
paar jeans na behore vul. Ek het nou die aand gedink hy lyk stunning in sy
aandpak, maar ek sweer dié is ’n verbetering. Daar is darem niks so
verleidelik soos ’n mooi geboude man in jeans nie.”
Sonika gee toe aan haar nuuskierigheid en loer in die rigting van die
ingang. By die blou jeans het hy ’n blou hemp aan. Sy kan maar net dink hoe
intens blou sy oë danksy dié kleurkombinasie moet wees.
“Ek het nog altyd ’n ding oor mans se sitvlakke,” lig Monique haar skalks
in. “En hy wen loshande.”
Sonika giggel verbouereerd. Sy voel effens lighoofdig en weet nie of die
sjampanje alleen daarvoor verantwoordelik is nie.
“Wat verkies jy?” Monique skink die laaste van die sjampanje en roep die
kelner nader vir nog ’n bottel.
“Lippe ... vol, sensuele lippe ...” Die heserige antwoord kom in ’n
onbewaakte oomblik uit Sonika se droë mond terwyl sy na die twee mans
staar. Sy kan nie help om op te let hoe die ander vroue ook na hom kyk nie.
Skielik besef sy wat sy vir Monique gesê het. Sy neem nooit aan sulke
gesprekke deel nie en kyk beskuldigend na die leë glas voor haar.
Dis Monique se beurt om te giggel. “Veral as hulle deel is van dáárdie
pakket. Hoe soen hy? Jy wou my nog nooit enige detail vertel nie.”
Sonika kan nie glo sy begin die gesprek geniet nie. Sy smak haar lippe
dramaties. “Soos ’n droom en nog beter.”
Nou lag albei half histeries.
Monique verstar. “O, gonna, ek ken sy metgesel, dis my ouditeur en hy het
my gesien. Ek dink hulle is op pad hierheen.”
Sonika kry nie kans om die waarskuwing te verwerk nie. Sy voel sy
teenwoordigheid langs haar aan nog voor hulle in haar gesigveld verskyn.
Sy draai haar kop stadig in die rigting van die twee mans. Sy oë is die
blouste blou. Haar hartklop versnel.
Hy groet koel. Die ouditeur is egter bly om Monique te sien.
“Ryno, dis my vriendin Sonika. Ek het jou van haar vertel.”
Ryno Harms is ’n kort, fris man met bruin hare en vriendelike groen oë.
Hy groet Sonika hartlik en net toe hy Michael wil voorstel, lig Monique hom
in dat hulle mekaar reeds ken.
“Dis ’n wonderlike verrassing. Mag ons by julle aansluit?”
Monique kyk vinnig na Sonika. Sonika haal haar skouers op, sy het nie ’n
geldige verskoning nie.
“Wonderlik.” Ryno reël met die kelner vir nog twee sitplekke.
Michael het weinig te sê. Sonika wonder of die situasie hom ook
ongemaklik maak.
Die mans neem weerskante van hulle plaas. Ryno gesels onderhoudend,
vertel stories van die dae toe hy en Michael ’n woonstel gedeel het.
Michael se been skuur per ongeluk teen hare en ’n skokgolf gaan deur
Sonika. Sy drink benoud ’n sluk van haar sjampanje en trek haar bene vinnig
onder haar stoel in. Hy toon geen reaksie nie.
“Eet julle voorreg klaar, ons sal inval by die hoofgereg.” Dis Michael se
voorstel en Sonika laat haar nie twee keer nooi nie. Sy gryp haar lepel en
verorber die laaste sop asof haar lewe daarvan afhang.
Monique bied die mans ’n glasie sjampanje aan, wat hulle van die hand
wys. Sonika sien dat die tweede bottel amper leeg is. Sy besef sy soek
moeilikheid, want sy is nie gewoond aan meer as twee glase wyn nie.
In oorleg met Ryno, bestel Michael ’n bottel rooiwyn. Sonika sien
terselfdertyd Monique se vermanende blik. Dit spreek boekdele en Sonika
besef sy kom onseker voor.
Sy haal diep asem en dwing haar liggaam om te ontspan. Sy weet sy kan
die situasie met haar normale selfvertroue hanteer. Haar korttermyndoelwit is
om te bewys dat sy teenwoordigheid haar nie verbouereer nie. Die kans is
groot dat hulle gereeld in mekaar gaan vasloop, sy kan nie elke keer soos ’n
onseker tienermeisie voorkom nie.
Nadat hulle die hoofgereg bestel het, vertel sy ’n staaltjie van ’n ouditeur
in die hof en kort voor lank hang Ryno aan haar lippe.
Michael sit sy mes en vurk neer. Hy het sy aptyt verloor. Hy het gehoop op
’n rustige kuiertjie saam met ’n goeie vriend, nou moet hy aanskou hoe die
swartkop sy vriend se aandag in beslag neem.
Michael besef drastiese stappe is nodig, anders gaan hy en Monique
heelaand toeskouers speel. As Ryno die aandag van ’n pragtige vrou het,
maak hy seker hy behou dit.
Vasbeslote drapeer hy sy linkerarm oor die leuning van Sonika se stoel en
begin met haar los hare speel. Haar hare gly soos sy deur sy vingers. Hy
dwing homself vinnig om net op sy vriend te fokus. Ryno kan nie sy besitlike
optrede miskyk nie. Hy bly halfpad in ’n sin stil en kyk vervaard na Michael.
Sonika se reaksie is stadiger. Die een oomblik is sy in beheer van die
situasie, die volgende oomblik woel vingers hipnotiserend deur haar hare, en
amper beweeg sy terug in die warmte van die arm op haar stoel. Sy sien die
selfvoldane glimlag op Michael se gesig en hoor Monique giggel. Die
implikasie van die situasie dring tot haar benewelde verstand deur.
Sy onderskep die mededingende blikke tussen die mans en sien hoe Ryno
die stryd gewonne gee en gedwee begin eet. Iewers op die agtergrond hoor sy
Monique praat.
“Het jy al in jou nuwe kantoorgebou ingetrek, Michael? Toe ons mekaar
laas gesien het, het jy gesê julle sou verlede week intrek.” Monique kyk
nuuskierig na Michael.
“Ja, ons is grotendeels in. Dis net die ouditorium wat nog voltooi moet
word.”
Sonika besef skielik dat Michael steeds liggies met haar hare speel. Sy sit
regop en kyk vies na hom. Sy hand gly uit haar hare, maar hy neem nie sy
arm weg nie. Haar pertinente blik na die arm op haar stoel het nie die
gewenste uitwerking nie. Hy leun rustig vorentoe, skink die laaste van die
sjampanje vir haar en Monique en brei op sy gemak oor sy planne uit met sy
arm nog op die rugkant van haar stoel.
’n Akkurate skop teen sy enkel het die nodige uitwerking. Hy ruk sy arm
weg en gluur haar aan. Sy gluur terug. Sy weet sy tree kinderagtig op, maar
glo die doel heilig die middele.
Monique neem weer die gesprek oor. Net Ryno antwoord nou en dan.
“Ons is op pad na die Prisma-klub. Join julle ons?” Monique kyk
afwagtend na die twee mans toe sy haar laaste slukkie koffie drink.
“Ek moet teruggaan kantoor toe. Daar is werk wat wag.” Michael bied
vinnig die verskoning aan, Ryno haal sy skouers besluiteloos op.
“Vergeet van werk. Jy is net so erg soos Sonika. Julle kan nie twee
onskuldige meisies alleen in die wilde stad loslaat nie?” Sy kyk die mans
oordrewe pleitend aan.
Michael stem in en dring terselfdertyd daarop aan om die rekening te
betaal. In normale omstandighede sou Sonika teëstribbel, maar te wyte aan
haar uiterste irritasie met Monique se voorstel en die verlammende effek van
die alkohol, is daar van haar gekoesterde onafhanklikheid nie sprake nie.
Monique reël ook sommer dat Ryno saam met haar ry en Sonika bevind
haar kort daarna in Michael se sportmotor. ’n Ongemaklike stilte heers die
hele pad.
By die klub gaan hulle by ’n tafel sit, maar Monique trek die protesterende
Ryno dadelik dansvloer toe.
Sonika en Michael sit ver van mekaar. Sy ignoreer hom. Ná die derde dans
sluit die ander twee weer by hulle aan.
“Michael, dis jou beurt om met my te dans.” Sy kry hom aan die hand beet
en trek hom op. “Ryno, kry iets vir ons om te drink en los hierdie boring
vriendin van my om op haar eie te sulk.”
Ryno stap toonbank toe en Michael volg Monique na die dansvloer. Sonika
probeer oral behalwe na die dansende paar kyk, maar haar blik beweeg
herhaaldelik terug na hulle. Michael en Monique beweeg vloeiend oor die
vloer en sy kan die herinneringe aan die kere toe hulle styf teen mekaar op
maat van romantiese musiek in die sitkamer beweeg het, nie keer nie.
Ryno sit die drankies op die tafel neer. Sonika neem dankbaar ’n sluk van
haar koeldrank. Haar mond bly droog.
Die ander twee sluit weer by hulle aan. Monique kyk ondersoekend na
Sonika en sy kan nie haar verwese uitdrukking vir haar vriendin wegsteek
nie.
“Michael,” gee Monique opdrag, “dans met Sonika. Ek wil gou privaat met
Ryno besigheid praat.” Sonika is verstom. Haar vriendin se vermetelheid ken
sowaar geen perke nie! Sy wil heftig protesteer, maar staar net oorbluf na die
hand wat Michael uithou. Haar liggaam het vreemd genoeg ’n wil van sy eie.
Onbenullighede gaan deur haar gedagtes, soos hoe klein haar hand lyk toe dit
in sy ferm hand toegevou word.
Hy trek haar saggies nader terwyl Enrique Iglesias op die agtergrond
kreun: “Maybe you’ll say you still want me, maybe you’ll say you don’t ...”
Die hitte van sy liggaam vou om haar. Selfs in haar hoëhakskoene kom
haar kop net onder sy ken. Soos altyd stuur hy haar gemaklik op maat van die
musiek. Sy maak haar oë toe. Die aarde tuimel en sy verskuif albei haar
hande na sy skouers om haar ewewig te behou. Sy konsentreer op die gevoel
van sy spiere onder haar hande en sy naskeermiddel gemeng met sy eie,
unieke reuk wat haar omring. Net ’n oomblik het sy die behoefte om te
vergeet van die stryd tussen hulle, van die seerkry en die verlede. Môre is nog
’n dag, nou klou sy vas aan haar droom.
Toe sy in sy arms ontspan, trek hy haar werktuiglik nog nader en sy arms
vou om haar middel.
Sonika leun terug in sy arms en kyk op in sy blou oë. Sy steek ’n bewerige
hand uit na sy lippe, streel oor die volheid. “Ek is definitief ’n lippevrou.” Sy
prewel saggies, hy moet effens buk om te hoor.
“Jy maak nie sin nie, Sonika. Ek dink jy het ’n bietjie te veel gehad om te
drink.” Hy klink geamuseerd.
Sy skud haar kop ontkennend, vou albei haar arms om sy breë skouers en
woel stywer teen hom aan, haar gesig verskuil in sy nek. Albei sy hande is
nou op haar rug. Sy aanraking laat haar liggaam gloei. Haar verstand het
gedisintegreer en haar liggaam floreer op die vrygelate gevoelens.
Hy verstyf toe haar lippe teen sy nek beweeg. Sy hoor ’n ligte kreungeluid
voor hy haar wegstoot. Vies kyk sy na hom.
Hy frons kwaad. “Sonika, jy weet nie wat jy doen nie! Jy moet by die huis
kom en jou roes gaan afslaap.”
Hy trek haar agter hom aan. By die tafel lig hy ’n verbaasde Monique in
dat Sonika sleg voel en dat hy haar huis toe neem. Sonika kry net kans om
haar handsakkie te gryp voor sy sonder meer na die Lamborghini gesleep
word. Hier word sy ingeboender en die laaste wat sy kan onthou, is die
prentjie van ’n woedende Michael wat met ’n gevaarlike spoed wegtrek. Die
res is vergete toe sy lomerig op die stoel agteroor sak en wegraak ...

Net ná tien sluip Sonika die ontvangsarea binne. Jennifer sien daar’s fout en
is diplomaties genoeg om nie kommentaar te lewer nie. Sy oorhandig net haar
telefoonboodskappe en bied koffie uit die perkoleerder langs haar lessenaar
aan.
Sonika neem die swart koffie en stap stokkerig na haar kantoor. Sy sluit
die deur en gaan sit versigtig met haar kop tussen haar hande gestut. Haar kop
was nog nooit so seer nie, maar dis te verstane – sy het nog nooit so baie soos
die vorige aand gedrink nie. Sy kan nie eens onthou hoe sy by die huis gekom
het nie, sy het net vanoggend ten volle geklee in haar bed wakker geword.
Sy haal nog pynpille uit haar sak en sluk dit met die koffie af. Ná drie pille
mag sy seker begin hoop om beter te voel. Sy kreun hardop toe sy haar kop
beweeg en laat dit weer tussen haar hande sak. Sy wens sy was dood.
Om alles te kroon voel sy soos ’n gek. Die res van die aand is ongelukkig
nie vaag nie. Haar optrede was onverskoonbaar. Wat moet Michael daarvan
dink? Sy kreun weer moedeloos en voel so verneder.
Wys jou net wat drank aan ’n mens se inhibisies kan doen. Sy sou nooit so
opgetree het as sy nugter was nie. Veral nie voor hom nie! Hoe herstel sy die
skade? Elke keer wil sy bewys sy is die beheerste prokureur en elke keer lyk
sy soos ’n super-idioot. So kan dit nie aangaan nie. Sy het ’n oorwinning
dringend nodig, sy verloor selfvertroue.
Sy sit regop. Aanval is die beste verweer, besluit sy. Iewers moet sy die
geleentheid skep om haar ware vermoëns te vertoon. Wanneer, weet sy nie
presies nie, maar haar kans sal kom, probeer sy haarself troos.
Sy kyk deur haar boodskappe. Gelukkig is niks dringend nie. Dan lees sy
haar e-pos en die eerste boodskap gee haar die nodige ammunisie – Paul vra
kommentaar op sy aangehegte voorlegging aan die Meskin-groep.
Net wat sy nodig het. Sy kan saamgaan en die vyand in sy skuilplek
ontmoet. Laat hom sien hoe professioneel en bekwaam sy is. Hy moet weet
die vorige aand se gebeure was net ’n groot fout.
Sy skakel Paul se uitbreiding.
Sy vrae oor haar toestand praat sy vinnig dood. Sy wil nie die vorige aand
bespreek nie. Hy is opgewonde oor haar voorstel. “Jy wil nie eerder die
voorlegging doen nie?” Paul se stem is pleitend. “Jy is ’n meer ervare spreker
as ons.”
“Graag.” Sy glimlag ingenome. Alles pas in by haar planne. “Kan ons
vieruur vir die finale bespreking bymekaarkom?”
“Reg met my, bevestig net met Kobus. Speel ons weer vanaand muurbal?”
Hulle drie speel gereeld teen mekaar. Met die stres wat hul werk meebring,
is dit ’n ideale uitlaatklep. Sonika het provinsiale kleure op universiteit behaal
en bied haar vriende sterk teenstand. Hul grootste doelwit is om haar te wen.
Gelukkig het hulle tot op hede nog min sukses daarmee gehad.
“Ja, gaan jy saam met ons speel?”
“Ek loop dit nie mis. Ek is in ’n vernietigende bui en ek wil dit op jou
uithaal. Sien jou dan later.”
Sonika lag vrolik, maar gryp onmiddellik weer haar kop vas. In haar
huidige toestand kan Paul dalk sy doelwit bereik.
Tevrede met die verloop van sake begin sy die e-posboodskappe antwoord.
Ses
Sonika is beïndruk toe sy die ultramoderne ontvangslokaal van Meskin
Holdings saam met haar twee vennote binnestap. Die hele omgewing spreek
van geld en goeie smaak. Sy moet toegee – die mynwerker het ’n ver pad
gekom. Seker ook te danke aan haar pa se hupstootjie. Sy kan nie dié
wrewelige gedagte keer nie.
Sy het moeite met haar voorkoms gedoen en spesiaal ’n nuwe baadjie met
wit omboorsel en ’n bypassende swart langbroek aangeskaf. Haar hare is ’n
halfuur gelede deur haar haarkapper in ’n byderwetse kapsel gestileer. Die
Franse vlegsel het plek gemaak vir ’n korter styl met die agterste deel net
bokant haar skouers en die voorste dele langer, wat haar gesig vleiend
omraam. Sy glo sy is die toonbeeld van gesofistikeerde elegansie. Ervaring
het haar geleer ’n aantreklike, goed versorgde persoon beïndruk haar gehoor
voor die eerste woord gespreek word. Haar professionele aanbieding sal die
res doen. Ná vanmiddag sal niemand twyfel dat hulle die beste regspraktyk is
nie en haar beloning lê in die beeld van haar wat Michael sal sien. Net soos
sy altyd beplan het.
Sy onderdruk ’n spottende glimlag toe sy die ontvangsdame sien, ’n
pragtige blondine. “Graeme sal nou hier wees om julle deur te neem.” Sy
glimlag vriendelik en beduie na die gastesitplekke.
Haar twee vennote kom senuagtig voor, Paul vroetel met sy selfoon en
Kobus trek aanhoudend aan sy das. In teenstelling daarmee, sien sy uit na die
uitdaging, sy ervaar dieselfde warm afwagting soos voor ’n groot hofsaak, en
nog nooit was sy so oorgehaal om te wen nie.
“Sonika, ons het jou nie verwag nie?” sê Graeme toe hy hulle kom haal.
“Ja, ek sou nie hier gewees het nie, maar my kliënt se saak is uitgestel.” Sy
stap op haar gemak vooruit in die rigting wat hy aandui, met haar twee
vennote wat volg.
Om ’n massiewe kersiehouttafel wag sowat tien mense, ’n gemengde groep
van mans en vroue.
Sonika maak oogkontak met Michael waar hy eenkant op sy selfoon praat.
Sy voel hoe kleur in haar wange opstoot. Hul laaste ontmoeting is nog vars in
haar geheue. Hy toon egter geen emosie nie, hou net haar blik gevange terwyl
hy met die selfoongesprek voortgaan. Haar aandag word afgelei toe sy aan
die ander voorgestel word. Hulle word ingelig dat die groep die bestuurspan
van die maatskappy verteenwoordig.
Michael staan nader nadat hy sy gesprek voltooi het. Sonika volg haar
vennote se voorbeeld en steek haar hand na hom uit. Sy groet hom stram.
Met ’n sjarmante glimlag begroet hy haar. “Juffrou Du Plessis, ons is bly
jy hier.” Hy beklemtoon elke woord en hou haar hand langer vas as wat nodig
is. Sy uitdagende blou kyk vas in haar emosielose groenes. Sonika kyk eerste
weg en trek haar hand terug. Sy besluit om sy uittarting te ignoreer. Sy
beweeg na die oorhoofse projektor en koppel haar skootrekenaar. Michael
doen die verwelkoming waarna sy met die aanbieding begin.
Sy is dankbaar toe sy uiteindelik klaar is. Michael se onpeilbare blik wat
haar fyn dophou, het haar ontsenu, maar sy glo sy het haar oogmerk bereik.
Die reaksie van haar gehoor is grotendeels positief.
Ná ’n paar vrae deur sy span, sluit Michael af. “Baie dankie vir julle
moeite en julle tyd. Ons beplan om binne ’n week ’n finale besluit te neem en
julle in te lig. Indien ons op julle besluit, verwag ek dat julle vier en twintig
uur, sewe dae per week tot my span se beskikking sal wees. Dit beteken dat
julle betrokke sal wees by enige regshandeling in die maatskappy, van die
eenvoudigste werknemerskontrak tot die ingewikkeldste oornames, selfs
persoonlike regsake van my werknemers. Julle sal op kort kennisgewing na
enige plek ter wêreld kan vertrek, julle familie sal julle hierin moet
ondersteun. Vir die opoffering is ons bereid om dubbel die standaardtariewe
te betaal.”
Koue rillings trek ná sy woorde deur Sonika se lyf. Sy woorde maal deur
haar kop op pad terug kantoor toe.
Haar vennote is uit hul vel van opgewondenheid, maar sy sien in haar kop
die prentjie van goue boeie. Sy hoop hulle het die fyn druk gelees, sy gaan
nie ’n gevangene van hul ambisies word nie.

Toe haar twee vennote soos baldadige tienerseuns haar kantoor binnestorm,
weet Sonika die koeël is deur die kerk.
In die een hand hou ’n triomfantlike Paul ’n brief en met die ander bring hy
’n bottel vonkelwyn te voorskyn. “Ons het dit, Sonika, ons het dit!” Hy gooi
die brief op haar lessenaar neer.
Sonika lees vinnig die brief op die Meskin-groep se briefhoof met Michael
se bekende handtekening onderaan deur, dieselfde handtekening wat haar uit
sy lewe weggeteken het. Sy onderdruk die bitter gedagte wat aan haar bly
torring. Die bevestiging is swart op wit en sy hoor hoe die tronkdeure agter
haar toeslaan. Sy stoot haar hare benoud uit haar gesig. Haar waarskuwings
die afgelope week het geen verskil aan haar vennote se standpunte gemaak
nie, hulle wil die regsbesigheid hê en hulle was bereid om die nodige
opofferings te maak.
Sy neem die glasie vonkelwyn met ’n suur glimlag. Vir die tweede keer die
afgelope week het sy niks om te vier nie. Die onrustigheid in haar is besig om
haar te verswelg. Watter invloed gaan hierdie verloop van sake op haar lewe
hê? Sy sal ’n fyn balans moet handhaaf tussen ondersteuning aan haar
vennote terwyl sy terselfdertyd kontak met die eienaar van die maatskappy
moet probeer vermy. Haar betrokkenheid het sy deur die aanbieding bevestig,
nou wil sy net ’n lae profiel handhaaf. Die naar kol op haar maag sê egter dit
gaan nie so eenvoudig wees nie.
Om sake te vererger, is Hanro vanaand terug en moet sy hom van Michael
vertel, ’n verhoor waarna sy glad nie uitsien nie.
“Dis nie al nie ...” Selfvoldaan bring Kobus drie goue, gebosseleerde
koeverte te voorskyn en oorhandig een aan haar. “Ons is uitgenooi na die
amptelike opening van hul hoofkantoor volgende Saterdagaand. Ons gaan hul
sakevennote sowel as hul personeel ontmoet.”
Met ’n vinnige verskoning op haar lippe probeer Sonika hom onderbreek,
maar Kobus praat haar dood. “En voor enige verskonings gemaak word, moet
ek julle inlig ...” hy kyk betekenisvol na Sonika, “hulle verwag dat ons al drie
daar sal wees om die personeel te ontmoet.”
Sonika maak die uitnodiging stadig oop. Hoekom verbaas die verpligte
bywoning haar nie? wonder sy. Wegkomkans blyk nie so maklik te wees nie.
Sy het met ’n uitgeslape tronkbewaarder te doen.
“Ek sal Hanro saamnooi.” Sy dink hardop. Sy het ’n ervare advokaat aan
haar sy nodig om haar teen haar eie feilbaarheid te beskerm. Saam met hom
sal sy te alle tye professioneel en afsydig optree.
“Slegte nuus vir jou.” Kobus beduie na die uitnodiging. “Kyk mooi,
metgeselle word nie genoem nie. Niemand kan egter van jou verwag om
langer as ’n uur daar te wees nie. Hierna bly ons by die ooreenkoms en tree jy
op soos ’n stil vennoot.”
Sonika byt haar bolip vas. Sy kan die sin insien waarom sy hul nuwe
kliënte persoonlik moet ontmoet. Binne ’n uur kan sy haar
verantwoordelikheid nakom. Sy is nogtans nie gelukkig met die verloop van
sake nie – sy word gevange gehou deur ander se besluite.
Presies seweuur stap Hanro haar simpleks binne. Hy is gemaklik geklee in ’n
grys langbroek en ’n wit hemp. Sy grys hare is ’n bietjie langer sedert sy hom
twee weke gelede gesien het. Sy donkerbruin oë lyk moeg.
Hy gee haar ’n formele soen op haar mond. Sy lippe is styf en sy probeer
die soen verdiep. Hy reageer nie soos sy ná ’n twee weke skeiding gehoop het
nie en teleurgesteld tree sy terug.
Hy staar haar verbaas aan, maar lewer nie kommentaar nie. Sonika stap
vooruit. “Moeilike week?” wil sy weet.
Hy volg haar na die kombuis waar sy vir hom ’n drankie skink. Hy neem
die glas en sug. “Ongelooflik moeilik. Ons saak het nie na wense verloop nie,
ons is oortuig die hof gaan teen ons kliënt beslis.”
“Dis slegte nuus.” Sonika draai na die stoof en roer die maalvleis op die
plaat. Sy berei ’n eenvoudige pastagereg voor aangesien haar ervaring in die
kombuis beperk is tot die opwarming van voorafbereide geregte van
delikatessewinkels. “Wanneer verwag julle ’n beslissing?”
“Nie voor die einde van die maand nie.”
Sy staar na die kastrol voor haar. Nou is seker so goed soos enige ander tyd
om die biegwerk agter die rug te kry. “Ons het darem goeie nuus vandag
gekry. Die Meskin-groep wat ’n ruk gelede van Londen hiernatoe geskuif het,
gaan grotendeels hul regswerk na ons verwys.” Sy hou haar stem emosieloos.
“Dis ongelooflik. Die maatskappy van doktor Michael Meskin? Ek het
gelees van hul skuif.” Sy volgende opmerking klink skepties. “Dit gebeur
min dat so ’n groot maatskappy sy besigheid vir ’n klein prokureurspraktyk
gee. Sal julle dit kan hanteer?”
Sonika draai stadig om. Hy het op die stoeltjie langs die toonbank gaan sit.
“Ek was self verbaas. Ons beoog om nog hulp te kry wanneer nodig. Jy weet
ons wou nog altyd die praktyk uitbrei. Met hierdie besigheid wat na ons toe
kom, kan ons dit uiteindelik doen.” Sy haal diep asem, haar hart klop in haar
keel. “Ek moet ...”
Hanro onderbreek haar voor sy kan aangaan. “Wel, baie geluk. Dis ’n
uitstekende geleentheid vir julle. Ek neem aan ek kry darem ook verwysings
vir enige hoflitigasiewerk?”
Sy knik. “Ja, ek sal definitief van jou kundigheid gebruik maak.”
Die kokende water in die pot begin oorborrel en sy draai terug na die stoof.
Sy gooi die pasta in.
“Sonika, jammer om jou aan te jaag, maar ek is baie moeg en wil vinnig
verkas. As jy dalk die kos so gou moontlik kan voorsit?”
Sonika voel onmiddellik afgehaal. Hoe sal Monique nie die humor hierin
sien nie. Op dié trant is hulle albei negeuur op ’n Vrydagaand in aparte
beddens. Die ouderdomsverskil word by tye soos dié skerp beklemtoon.
Hanro het nie meer die energie vir laat aande nie en sy sal nog maklik ’n paar
uur kan kuier.
En wanneer Hanro moeg is, is hy iesegrimmig. Sy hoop nie sy is besig om
’n verskoning te soek nie, maar sy waag dit nooit om in dié omstandighede
delikate onderwerpe aan te raak nie. Sy reaksie is onvoorspelbaar.
“Ons kan binne twintig minute eet.” Sy stap nader en gee hom ’n drukkie.
Hy vou sy arms gerusstellend om haar. Sy nabyheid laat haar veilig voel en
sy bly ’n paar minute in sy omhelsing.
Sy ís lief vir hom en gelukkig is daar gedeelde belangstellings waarop
hulle ’n huwelik kan bou, maal die gedagtes deur haar kop. Geen paartjie kan
in alle opsigte mekaar se behoeftes bevredig nie en die fisieke is nie so
belangrik nie. Dié wete behoort twyfel weg te hou.
Sewe
Sonika klim versigtig met haar duur, nuwe aandrok in Betsie. Ervaring het
haar geleer om op die uitkyk te wees vir haakplekke in haar motortjie. Vele
pare sykouse is al in dié motortjie afgeskryf.
Sy voel die uitwerking van die afgelope veeleisende week in haar moeë
liggaam. Die werk van die Meskin-groep het Maandag begin instroom. Almal
het lang ure gewerk, soveel so dat sy nie eens vir Hanro sedert die vorige
Vrydagaand se teleurstellende ete gesien het nie.
Vanoggend het sy die winkels ingestorm op soek na die ideale rok vir
vanaand se geleentheid. Sy was uiteindelik tevrede met die lang, swart rok
wat sy ná drie uur se gesoek in ’n onbekende boetiek gekry het.
Die rok het twee fyn bandjies en ’n effens gewaagde oorkruishals en kaal
rug, maar niks waaroor sy ongemaklik hoef te voel nie. Die sagte satyn vou
vleiend om haar lyf en die lang splete tot by haar bobene gee haar gemaklike
beweegruimte. Daarby dra sy fyn, swart sandale.
Sy is skaars op die snelweg toe Betsie snaakse geluide begin maak.
Benoud kyk sy na die instrumentepaneel. Daar is genoeg petrol, maar die
olieliggie flikker rooi.
’n Paar minute later begin die motortjie stotter en sy beweeg net betyds na
die kant van die snelweg voor die motor tot stilstand kom.
“Wat nou weer?” wonder sy hardop. Die gewone gevroetel in die enjin het
nie die gewenste uitwerking nie. Sy kyk gelate na haar oliebesmeerde hande
toe sy in haar handsakkie rondvroetel op soek na haar selfoon. Dié probeer sy
so goed moontlik met snesies skoonmaak.
Hanro en haar pa is seker nog by die negentiende putjie ná hul
gholfafspraak. Skemer kom nader en sy kan nie nog ’n uur wag voor hulle
hier opdaag nie. Monique is in Durban by haar ouers. Haar twee vennote bly
haar beste opsie.
Hulle antwoord nie en sy los boodskappe. Mismoedig leun sy met gevoude
arms teen die motor. Sy sal hulle ’n halfuur gee, miskien wonder hulle teen
daardie tyd waar sy is. So nie sal sy Hanro bel.
Tien minute later lui haar foon. Sy ken nie die nommer nie, maar antwoord
hoopvol.
“Sonika, waar is jy?” hoor sy Michael se omgekrapte stem.
Wat is sy probleem en waar kry hy haar nommer? Dan onthou sy van die
besigheidskaartjies wat sy met die aanbieding uitgedeel het.
“Op die snelweg op pad na jou kantoor toe. My motor het gaan staan.”
Hy vra haar uit presies waar sy staan en sê dan: “Ek stuur David, my
chauffeur.” Toe druk hy sy foon dood.
Sonika kyk geskok na die dooie foon in haar hand. Dit sal net hy wees wat
nuwe betekenis aan die begrip kort en kragtig gee.
So min as wat sy die arrogante chauffeur op haar spoor wil hê, is sy tog
dankbaar vir die aanbod. Binne ’n rekordtyd sien sy die chauffeur met sy
eienaar se indrukwekkende motor aangery kom. Hy hou langs haar stil en
klim uit. “Juffrou Du Plessis?”
Sy knik en hy maak die agterdeur oop. “Ek sal reël dat u motor by ’n
motorhawe vir herstelwerk uitkom.”
Asof sy dit gereeld doen, gaan sit sy elegant op die agterste sitplek. Die
chauffeur maak die deur versigtig toe en klim voor in.
Sonika bewonder die binnekant van die motor. As haar hande nie so vuil
was nie, het sy die agterste leersitplek gestreel net om die sagte tekstuur te
voel. Die besonderse reuk van leer en hout vul die motor.
Die rit is te vinnig verby en hy hou voor die hoofingang van die
kantoorgebou stil.
Voor sy heeltemal kan uitklim, bestorm haar twee bekommerde vennote
haar. Hulle maak vinnig verskoning oor hul onbereikbaarheid. Hul
bekommernis is egter van korte duur en hulle skakel oor na teregwysings.
“Gaan jy nou daardie kar vervang? Jy kan dit nie bekostig om langs die
pad in die steek gelaat te word nie! Jy weet hoe gevaarlik dit is.”
Paul word deur ’n opgewerkte Kobus onderbreek. “Paul is reg, jy soek
moeilikheid. Daar sal nie altyd iemand beskikbaar wees om jou uit jou
penarie te red nie. Ek sal jou na my motorhandelaar verwys. Hy sal vir jou ’n
goeie pakket aanbied.”
Sonika luister net met een oor. Sy stap vinnig die gebou binne. Niks wat
hulle vir haar sê, is vir haar nuus nie.
Hulle bly op haar hakke tot by die kleedkamer. Verlig stoot sy die deur in
hul gesigte toe. Sy weet hulle bedoel dit goed, maar nou is egter nie die regte
tyd vir ’n lesing nie.
Sy was haar hande deeglik, trek ’n borsel deur haar hare en sit weer
lipstiffie aan. Sy bekyk die prentjie in die spieël. Sy lyk seker nie te sleg vir
iemand wat pas meganikus probeer speel het nie.
Sy maak die kleedkamerdeur oop, gereed om terug te baklei en loop haar
trompop teen Michael vas, waar hy met sy rug na die deur staan.
“Ek hoop daar is ’n ander kleedkamer vir die vroue as jy hierdie een so
afsper.”
Sy spot vinnig om haar skok weg te steek. Hy draai om, bedwelmend
aantreklik in sy wit aandbaadjie. Sy blonde hare is teruggekam, net ’n
weerbarstige krul lê oor sy voorkop. Sy wens hy wil sy hare weer laat groei,
sy hou meer van die langer, deurmekaar styl. Sy oë is ’n diep donkerblou wat
hare lank gevange hou.
Haar bene is loodswaar en sy kan hulle nie aan die beweeg kry nie. Haar
oë beweeg asof gehipnotiseer oor sy gesig en eindig by sy lippe. Vol,
sensuele lippe ... Net jammer hulle is in so ’n stroewe lyn vertrek. Sy wonder
of hulle sal versag as sy met haar vingers daaroor streel.
Sy steek haar hand uit, bedink haar dan halfpad. Sy koue, blou oë is op
haar gerig. Haar hand sak. Miskien nie. Wat ’n idiotiese gedagte in elk geval!
Hoe vinnig vergeet sy nie die verlede nie.
Woordeloos kyk hy na haar. Sonika begin ongemaklik voel. Is daar iewers
’n naat los, of het sy ’n vuil kol misgekyk?
“Jy gaan seker na dese ontslae raak van daardie wrak.”
Wonderlik, dink sy terwyl sy by hom verbyskuur. Nog ’n mansmens wat
haar oor haar kar aanspreek. Het hulle niks anders om oor te praat nie? Sy
verwerdig haar nie eens om op sy woorde te reageer nie.
“Jou gaste wag.” Sy beweeg in die rigting van die raadsaal waar sy die
gedruis van stemme hoor.
Die personeelbestuurder sluit by haar aan en so ver as wat hulle beweeg,
stel hy haar voor. Dit lyk asof almal wat iemand is van regoor die land hier is.
Michael en haar vennote sien sy nou en dan tussen die mense rondbeweeg.
Sy slaag goed daarin om hulle te vermy. Ná haar beoogde uur verskoon sy
haar van ’n groep en stap deur na ontvangs.
Die blonde ontvangsdame is besig om aan twee gaste die uitleg van die
gebou te beskryf. Sonika staan eenkant en neem mineraalwater wat deur ’n
kelner bedien word terwyl sy wag vir die vrou om klaar te gesels sodat sy kan
reël vir ’n huurmotor.
Haar nuuskierigheid word geprikkel toe sy hoor hoe die vrou aan die gaste
noem dat Michael se kantoor op die boonste verdieping is.
Daar is seker nie ’n wet daarteen om sy kantoor te besigtig nie, redeneer
sy. Sy glo aan ’n mens se reg tot privaatheid, maar ’n kantoor is tog nie
dieselfde as ’n slaapkamer nie? Sy sal net vinnig loer, miskien kry sy ’n nuwe
insig op die vreemde Michael. Hy verskil kommerwekkend van die een wat
sy geken het.
Voor sy dit kan heroorweeg, is sy in die hysbak op pad na die boonste
verdieping. Daar sien sy twee deure. Die eerste een wat sy kies, lei deur ’n
sekretariële afdeling na sy kantoor.
Sy staan onseker by die ingang. Die weelderige kantoor is so groot soos
haar simpleks. ’n Massiewe houtlessenaar staan in die middel, met ’n boekrak
vol boeke teen een hele muur, en aan die regterkant ’n sitkamergedeelte met
’n grootskermtelevisie en ’n hoëtroustel. Die muurgrootte vensters met ’n
asemrowende uitsig oor die stad beïndruk haar die meeste.
Voor sy kan omdraai, sien sy ’n silwerfotoraam, met die rugkant na haar,
op sy netjiese lessenaar. Versigtig stap sy nader en steek ’n bewerige hand
uit.
Onverklaarbaar verlig staar sy na Elise se laggende gesig. Ongekende
verlange na die wonderlike vrou stoot in haar op. Hoe baie wonder sy nie oor
haar en waar sy haar bevind nie.
“Het jy jou nuuskierigheid bevredig?” Michael se skor stem tref haar
tussen die blaaie en haar hele liggaam verstyf van skok. Beangs kyk sy om na
waar hy in die deur staan. Sy keer betyds voor die raam uit haar dom hande
gly.
Hy stap stadig nader en Sonika voel die kant van die lessenaar teen haar
druk toe sy retireer. Sy oorweeg die beste ontsnaproete, maar hy staan amper
teen haar en sy liggaam laat geen beweegruimte toe nie. Die subtiele reuk van
sy naskeermiddel bereik haar. Teen hierdie tyd kan haar oorblywende logiese
denke haar liggaam se reaksie op sy nabyheid sinies voorspel. Haar knieë
word lam, haar hartklop versnel verder en sy is meteens kortasem.
Hy neem die raam versigtig uit haar hande en leun oor haar skouer om dit
op die lessenaar terug te sit. Haar hart wil omtrent uit haar bors spring ná die
ligte aanraking van sy arm teen haar skouer. Kalm, Sonika, kalm, praat sy
met haarself. Jy is nie meer ’n bakvissie nie, jy kan regtig hierdie situasie met
gemak hanteer. Die boodskap sukkel egter om by haar liggaam uit te kom.
“Waar is sy nou?” Haar woorde kom hees oor haar lippe. Sy maak
keelskoon en kyk op toe hy terugbeweeg na sy oorspronklike posisie, wat
haar steeds vaskeer.
“In Europa op ’n wêreldtoer. Andersins bly sy op die familieplaas naby
Warmbad.” Sy mededeling is kortaf, asof hy nie die onderwerp met haar wil
bespreek nie.
“Wanneer kom sy terug?” Sy voel meer tevrede, haar stem klink bedaard.
“Oor ’n paar weke.” Hy klink afgetrokke. Sy aandag het verskuif na die
kloppende pols in haar keel. Hy steek sy regterhand uit en streel met sy duim
daaroor.
Haar liggaam val terug teen die lessenaar en sy gryp met albei hande na
ondersteuning. Sy klou naarstig aan die kant van die lessenaar vas. Sy voel sy
vingers strelend afbeweeg en bokant haar lae halslyn tot rus kom. Haar
onreëlmatige asemhaling word verklap deur die onrustige deining van haar
borste. Sy fokus op die keep in sy ken, maar steeds bly haar blik terugbeweeg
na die volheid van sy lippe.
Hy kyk met ’n onpeilbare blik na haar. “Is jy bang vir my?” Sy stem is sag.
Sy kan nie woorde oor haar lippe kry nie. Sy skud net haar kop
ontkennend, hoewel sy weet haar liggaam se reaksie bewys die teendeel. Sy
is nie bang vir hom nie, sy is bang vir die reaksie van haar liggaam as hy
naby is.
Sy kry skielik warm en wonder vlietend of die lugverkoelingstelsel buite
werking is.
“Jy moet wees.” Sy aandag het nou na haar hare verskuif wat half oor haar
oë hang. Hy stoot haar kuif versigtig weg. Sy vingers speel daardeur, dan
sluit sy hand om haar agterkop en trek hy haar stadig nader.
Redelike denke verlaat haar toe sy lippe naderbeweeg en haar hande stut
werktuiglik teen sy bors vir ondersteuning. Sy kan nie eens onthou waaroor
hulle gepraat het nie, is haar wanhopige gedagtes voor haar sintuie totaal
oorneem met die herontmoeting van hul lippe.
Soos daardie eerste keer speel hy met haar sensitiewe mond, byt spelerig
aan haar onderlip. Sonika het nie geduld vir die liefderike behandeling nie.
Ná die woestynjare smag sy na groter bevrediging. Sy woel haar hande in sy
kort hare en trek hom besitlik nader. Sy maak haar lippe onder syne oop en
terg met haar tong tussen sy geslote lippe. Hy proe bekend, sy smaak op haar
lippe is onbeskryflik.
Met haar onuitgesproke boodskap neem hy weer beheer. Hy draai sy kop
skuins om hartstogtelik van haar oop mond besit te neem. Hul verbale oorlog
word vervang deur ’n passievolle wedywering om oorheersing toe tonge en
lippe die liefdespel voorsit.
Sonika gee ’n oomblik die stryd gewonne terwyl sy naarstig na asem soek.
Sy snak weer na asem toe Michael sy lippe na haar nek verskuif, haar saggies
byt en strelend daaroor soen.
Al wat hoorbaar is, is hul onreëlmatige asemhaling. Sy protesteer nie eens
toe hy die regterbandjie van haar rok wegstoot en haar bors half onbloot word
nie. Sy lippe volg die pad en sy kan net in ekstase aan sy agterkop vasklou.
Die skielike skerp lig in haar gesig bring haar terug aarde toe. Haar
benewelde verstand registreer stadig die twee mense in die deur. Die een het
’n kamera in sy hand en die ander ’n triomfantlike uitdrukking op sy gesig
voor hulle vinnig verdwyn.
Sonika probeer Michael tevergeefs wegstoot terwyl sy die prentjie wat
hulle skep, registreer. Sy is half ontbloot met Michael liefkosend teen haar
hals, sy goed versorgde hare is deurmekaar. Een of ander tyd het sy probeer
om sy baadjie af te stoot en dié hang slordig oor sy skouers. Sy wil nie eens
dink hoe sy moet lyk nie. As dit die koerantmense was, is sy in groot
moeilikheid.
Michael reageer eers toe sy paniekerig sy naam uitroep. Hy lig sy kop
traag op.
Sy wys benoud na die deur waar die twee mans gestaan het. ’n Bewerige
hand stoot die bandjie van haar rok terug op haar skouer. “Iemand het nou net
’n foto geneem. Kon jy nie sien nie? Is die koerante hier?”
Hy kyk nie eens in die rigting van die deur nie, trek ongeërg sy baadjie reg
asof niks vreemds gebeur het nie. Sonika bekyk hom verbouereerd. Sy kan
nie glo dat hy so maklik sy emosies in toom kan kry nie.
“Natuurlik is die koerante hier. Om die waarheid te sê, my
bemarkingsafdeling het gereël dat daar foto’s in my kantoor geneem word,
dit was seker hulle.”
Sonika gluur hom aan. Sy kan nie glo wat sy hoor nie. “Jy bedoel jy het
hulle hier verwag?” Sy beduie met haar hand. “En jy ... ek ...” Sy struikel oor
haar woorde in ’n poging om die ontoelaatbare omhelsing te beskryf.
Hy reageer rustig op haar ontsteltenis. “Ja, ek het hulle verwag, maar ek
het jóú nie hier verwag nie.” Sonika besef sy mag nie beskuldigings uitdeel
nie. Sy was ongenooi hier en sy wil glo Michael sou nie ’n aandeel in dié
ongevraagde blootstelling hê nie. “En die foto wat geneem is? Is jy nie
bekommerd daaroor nie?”
“Die spesifieke persmense kom van ’n hoogaangeskrewe sakeblad, hulle
spesialiseer nie in erotika nie.” Sy stemtoon is sarkasties.
Sonika kan nie die saak sommerso gewonne gee nie. Meer as haar eer is op
die spel. “Ek hoop jy weet waarvan jy praat. My beeld sal ongelooflike skade
ly as sulke foto’s in die koerante verskyn!”
Hy haal sy skouers op asof hy nie kan verstaan waaroor sy so ’n ophef
maak nie. “Ek sal hulle bel en seker maak dat jou vrese nie bewaarheid word
nie. Verskoon my, ek moet weer by my gaste aansluit.”
Hy draai om en stap doodluiters uit. Sonika staar hom verslae agterna. Sy
kan nie glo hy los haar net so asof sy ’n vervelige tussenspel was terwyl die
implikasies van die afgelope voorval haar hele toekoms kan beïnvloed nie.
Hoe verduidelik sy so iets aan haar vriende en aan Hanro?
En waarom het sy so maklik aan die omhelsing toegegee? Sy is
veronderstel om amper verloof te wees, om ’n ander man lief te hê. Hoe kan
sy dit aan Hanro doen? Waar is haar selfbeheersing? Hoekom het sy geen
weerstand teen die man nie, sy weet wie hy is en wat hy aan haar gedoen het
en steeds was alles vergete toe hy aan haar raak. Hierdie keer kan sy nie die
alkohol blameer nie, sy het net water gedrink. Die gedagte is vreesaanjaend.
Is hy besig om weer ’n houvas op haar te kry, ondanks die gebeure in die
verlede? Sy glo sy is volwasse genoeg om nie weer in sy strik te beland nie.
Hopelik het die onsmaaklike gebeurtenis haar laat besef wat op die spel is en
sy sal nou seker maak dat sy ’n afstand hou.

Sonika lê uitgestrek met ’n kussing onder haar kop op haar sitkamermat. Die
Sondagkoerante lê wanordelik om haar versprei. Nie een van hulle bevat die
gewraakte foto nie, maar sy besef dit beteken nie noodwendig dat sy nie vir
haar dom optrede gaan betaal nie. Die week en sy koerante lê nog voor.
Sy staar na die plafon asof die antwoorde vir haar probleme daar geskryf
staan. Sy is in ’n penarie, besef sy. Sy moet ’n tweevoudige probleem
konfronteer en oplos, die een op ’n persoonlike vlak en die ander op ’n
beroepsvlak, en alles as gevolg van gisteraand se voorval.
Sy benodig deurdagte verduidelikings indien die foto in die koerant
verskyn. Daar is duidelike regsriglyne wat haar optrede as prokureur beheer.
’n Smaaklose foto van haar en ’n kliënt sal nie vriendelik in die regswêreld
ontvang word nie.
Nou is haar groter bekommernis egter op ’n persoonlike vlak. Sy kan die
waarheid nie meer ignoreer nie – daar is geen sprake van trou met Hanro
terwyl sy so irrasioneel aangetrokke tot ’n ander man is nie. Dit gaan nie
soseer oor verliefdheid nie. Die nuwe, arrogante Michael en die man wat sy
liefgehad het, is twee verskillende mense. Sy is egter nie onaangeraak in sy
teenwoordigheid nie en daarom moet sy oop kaarte met Hanro speel, hy
verdien niks minder nie. Hy sal ook verneder word deur foto’s van haar saam
met ’n ander man.
Sy reël om hom by die koffiewinkel oorkant haar simpleks te ontmoet. Sy
verkies ’n neutrale omgewing om die moeilike onderwerp te bespreek. Hy het
nie die vreemde versoek bevraagteken nie en ’n halfuur later sluit hy by haar
aan waar sy in ’n afgesonderde hoek vir hom wag.
“Ek het vir ons tee bestel.”
Hy knik. “Wat is fout?”
Sy vermy sy blik, vroetel met die tafeldoek se punt, dan lig sy haar kop op
en kyk hom in die oë. “Ek kan nie meer met ons verhouding voortgaan nie.”
Hy staar haar verbaas aan. “Hoekom so skielik? Is daar iemand anders?”
“Nie regtig nie.” Sy sug en hitte stoot in haar gesig op by die gedagte aan
die vorige aand. “Die ding is ... gisteraand by die geselligheid is daar ’n foto
van my en Meskin geneem waar ons in ...” Sy maak keelskoon voor sy
voortgaan. “... in ’n omhelsing betrap is. Ek is bang die foto gaan in die
koerante verskyn. Dit kan vir jou ’n ontsaglike verleentheid wees.”
“Dit gaan oor meer as net die foto, nie waar nie? Meskin speel ook ’n rol in
jou besluit.”
Sy knik bedees. Dit sal nie help om hom te mislei net in ’n poging om hom
nie seer te maak nie.
Hy sit agteroor en vou sy arms. Sy ken daardie berekende kyk in sy oë en
sy kyk skuldig weg. “Ek verstaan dalk meer as wat jy besef. Die laaste ruk
het ek ’n afsydigheid by jou waargeneem wat ek nie kon verklaar nie. Nou
begin dit sin maak.”
“Ek is baie jammer, ek wou jou nie seermaak nie.”
Hy sug diep. “Dis soms die verloop van die lewe. Ek is bly jy is ten minste
eerlik met my en hopelik gaan dit nie ons werkverhouding versuur nie.”
Gretig gryp sy na die vredesgebaar. “Nee, nie van my kant af nie.”
Hy staan op. “Jy sal verstaan as ek nie die tee saam met jou drink nie.”
Sy kyk hom verslae agterna toe hy uitstap. Sy voel meteens ongelooflik
leeg. Hoe rustig het Hanro haar woorde hanteer en hoekom voel sy net
verligting oor hierdie stap wat sy gedoen het? Wat sê dit dan van hul
verhouding? Sy het tog geglo hy is die man met wie sy die res van haar lewe
wil deurbring. Hoekom is daar dan geen hartseer en pyn by die afskeid
betrokke nie? Het hulle bloot in ’n gewoonte verval en dit as liefde
aangesien, of is haar gevoelens deesdae so oppervlakkig? Is dit die tipe mens
wat sy geword het ná die emosionele skade wat haar aangedoen is? Sy hoop
nie so nie, sy wil glo daar is meer diepte in haar as dit.
Die kelner bedien die tee en afgetrokke skink sy vir haar. Sy het nou die
een aspek afgehandel, maar wat van die ander een? Wat gaan die komende
week vir haar beroep inhou? Hoeveel beheer gaan sy regtig hê oor die
gevolge van haar dom oomblik? Sy het ’n trotse professionele beeld wat sy
effektief gebruik om misbruikte vroue te ondersteun en te beskerm. Wat gaan
daarvan oorbly as sy in die koerante uitgewys word as iemand wat
verhoudings met kliënte aangaan?
Sy kan net hoop Michael kom sy belofte na. Sy het net nie die moed om
hom nou te bel nie, sy sal maar wag en sien wat Maandag bring.

Tevrede leun Michael agteroor op sy stoel met die koerant in sy hand.


Geamuseerd kyk hy na die foto van hom en Sonika in ’n intieme omhelsing
op die agterkant van die geelpersdagblad. In normale omstandighede sou hy
woedend gewees het as hy by so ’n smeerberig betrek word, nou kon hy dit
egter nie beter gereël het nie. Hierdie foto’s sal perfekte prokureur Sonika du
Plessis deeglik op haar plek sit.
Hy kon die afgelope gebeure nie beter beplan het nie. Die noodlot en
Sonika het perfek in sy hande gespeel. Hy het haar nie in sy kantoor verwag
nie, maar hy moes eenvoudig die situasie uitbuit. Hy het geweet ’n fotograaf
is op pad en die media is altyd op soek na sensasionele nuus oor hom. Hy sal
nie stry nie, hy was ook meegevoer deur die omhelsing, maar wie kan hom
verkwalik met die skoonheid in sy arms? Wat nou van belang is, is om sy
wraakplanne deur te voer. Die opskrif, Is dit hoe prokureurs deesdae
besigheid bekom?, sou hy nie beter kon bewoord nie.
Hy kyk na sy goue horlosie, dis net ná sewe. Hy verwag sy sal hom
binnekort bel, want hy het gereël dat ’n koerant by haar kantoor afgelewer
word. Wat sy egter nog nie weet nie, is dat hy vir die res van die week nie
beskikbaar gaan wees nie. Hy wil graag sien hoe sy ongeskonde uit hierdie
tameletjie kom. Die eerste les in haar eie feilbaarheid het begin.

Sonika blaai vinnig deur die geelpersdagblad wat in ontvangs op haar wag.
Sy is gereed vir die skok, maar sy kan hoegenaamd nie die impak van die
agterbladfoto verwerk nie. Naarheid stoot in haar op. Sy neem ’n vinnige
slukkie van haar swart koffie en lees verder. Die aanname van die berig is
nog erger as wat sy verwag het.
’n Gefrustreerde skreeugeluid wat ’n kombinasie van woede en
vernedering is, bars oor haar lippe. Die koerant word oor die vloer gegooi,
gevolg deur die naaste voorwerp op die tafel.
Paul storm verward die kantoor binne. Hy koes vinnig toe ’n pen naby sy
kop verbyvlieg. Kobus is kort op sy hakke, maar stop in die deur.
Sonika bedaar effens toe sy haar gehoor waarneem. Sy gryp egter vinnig
die dele van die koerant bymekaar voor Paul dit kan optel en hou dit agter
haar rug.
“Ek moet julle iets oor Saterdagaand vertel ...” Sy vermy hul oë.
“Het jy en Michael mekaar aangerand en nou is dit voorbladnuus?” Paul
lag vir sy eie spitsvondigheid terwyl hy veelseggend na die koerant agter haar
rug beduie, maar hy kry nie die verlangde reaksie nie.
“Amper so iets ...” Sy bring stadig die koerant te voorskyn en beduie na die
agterblad.
Sy sien hul geskokte reaksies, Kobus bloos en Paul uiter ’n kragwoord.
Haar liggaam brand van vernedering. Sy gee hulle tyd om die inligting te
verwerk.
“Definitief ’n geval van koesterende aanranding ...” sê Kobus droog.
Hulle lag hakkelrig. Sonika se lag het ’n histeriese klankie.
Paul sak op die naaste stoel neer en die ander twee volg sy voorbeeld. Hy
haal sy bril af en maak dit met sy sakdoek skoon. Dan kyk hy op. “Ek wil
regtig nie weet wat daar gebeur het nie. Wat ek eerder wil weet, is wat gaan
ons doen?” Paul kyk sy twee vennote vraend aan terwyl hy sy bril weer opsit.
Sonika kyk dankbaar na hom. Sy het geweet sy kan op hul ondersteuning
staatmaak.
“Ignoreer?” Kobus se voorstel vind nie byval nie. Hy lig sy hande
apologeties op toe Sonika vies na hom kyk.
Sonika trek gefrustreerde hande deur haar hare. Sy kan steeds nie glo sy
bevind haar in hierdie penarie nie. Situasies soos dié gebeur met haar kliënte,
nie met haar nie. “Vir die eerste keer in my professionele lewe moet ek erken
ek het nie ’n idee nie. Ek kan die koerant dagvaar vir skending van
privaatheid en laster, maar ek weet dit gaan nie die probleem oplos nie, net
meer aandag daarop vestig. Dis ’n ongelooflike gemors en alles deur my eie
dwase optrede!”
“My interpretasie van die gebeure is eerder alles deur jou eie dwase hande,
lippe, lyf ...” Kobus keer met sy hande toe Sonika ’n papiergewig in sy
rigting mik.
“Kinders, kinders!” Paul betig hulle goedig. “Ek is dankbaar ons kan die
humor hierin sien. Kom ons fokus egter op ’n oplossing. ’n Dagvaarding
gaan nie die skade verminder nie. Ek dink ons hoop verniet dat ons kollegas
nie hierdie koerant lees nie.
“’n Persverklaring is ’n opsie, maar hoe maak ons dit af as snert? Die
implikasie bly dat Sonika vir ons die Meskin-groep se besigheid deur
seksuele gunste bekom het. ’n Moontlikheid is om die media van julle vorige
verhouding in te lig.”
Sonika skud haar kop heftig. “Vergeet daarvan. Neem my woord daarvoor,
dit sal meer vrae skep as antwoorde gee.”
“Dis my mening dat ons dalk kliënte kan verloor. Daaroor is ek nie
bekommerd nie, aangesien die Meskin-groep meer as genoeg werk oor ’n
lang tydperk aan ons gaan voorsien. Die negatiewe publisiteit sal mettertyd
oorwaai. As individu gaan Sonika die meeste skade ly. Die Prokureursorde
mag ’n verduideliking eis en sy dien in komitees waar haar professionaliteit
bevraagteken gaan word.”
Sonika knik instemmend. Sy kyk verbaas na die bewende hand wat haar
selfoon vashou. Waar is haar fyn aangeleerde vaardighede van beheer heen?
wonder sy benoud. “Kobus is reg, die een wat die grootse skade hierdeur
gaan ly, is seker ek. My professionele beeld is aan flarde, maar solank die
Meskin-groep werk aanstuur, is ons finansieel veilig.”
“Solank? Wat is die moontlikheid dat hulle kan onttrek om verdere
negatiewe publisiteit te vermy?” Kobus lyk meteens bekommerd.
Paul oordink die argumente voor hy antwoord. “Nie onmoontlik nie, wel
oneties. Michael het net so ’n groot aandeel en Sonika kan nie alleen die
gevolge dra nie.”
Kobus skuif onrustig in sy stoel rond. “Ek is benoud hieroor. Het Sonika
ons nie oor sy verskuilde agenda gewaarsku nie? Is dié nie dalk deel daarvan
nie? As hy sy regswerk onttrek en ons terselfdertyd nuwe besigheid as gevolg
van die slegte publisiteit verloor, kan dit ons op lang termyn ruïneer.”
Die implikasie van Kobus se woorde dring tot Sonika deur. “My liewe
hemel! Kobus kan reg wees. Ek voel steeds sy verskyning is nie net toevallig
nie. Miskien wil hy my vir iets terugbetaal en dié was die ideale geleentheid?
Hy het juis Saterdag die vreemde opmerking gemaak dat ek vir hom moet
bang wees.”
Paul frons skerp. “Dit klink sleg. Sonika, bel hom asseblief onmiddellik.
Ons moet weet waar ons met hom staan. Hy is ook die een met ’n hele
bemarkingspan. Hulle spesialiseer in oplossings vir sulke situasies.”
Sonika skakel Michael se selnommer. Sy frons gefrustreerd toe ’n
stemboodskap deurkom. “Hy antwoord nie, ek sal sy kantoornommer
probeer.” Sy haal sy besigheidskaartjie uit haar aktetas en skakel die nommer.
’n Vrou antwoord en Sonika word vriendelik ingelig dat doktor Meskin vir
die week uitstedig is en as hy nie op sy selfoon beskikbaar is nie, het sy geen
idee hoe om hom andersins in die hande te kry nie.
Sonika gooi die foon terug op die mikkie. Sy skud net haar kop op die twee
mans se afwagtende blikke. Naarheid stoot weer in haar op. “Uitstedig vir die
week.”
Hulle kyk bekommerd na mekaar, maar spreek nie hul gedagtes uit nie.
Paul staan op. “Daar is niks meer wat ons nou kan doen nie. Ek stel voor
Sonika sluit haar by wyse van spreke in haar kantoor toe tot ons Michael in
die hande kry. So vermy sy die media en enige negatiewe kommentaar. Ek
sal Jennifer inlig dat ek al jou oproepe en kliënte sal hanteer. Ons kan maar
net hoop die Meskin-groep gaan ons nie in die steek laat nie. Jy is volgende
Dinsdag weer in die hof?” Hy kyk vraend na Sonika, wat bevestigend knik.
“Waarskynlik is daar dan ’n teenoffensief met die hulp van die Meskin-groep
op die tafel. As julle intussen briljante voorstelle het, laat die res van ons
weet.”
Sonika staar haar vennote verdwaas agterna. Wanneer gaan hierdie
nagmerrie eindig? dink sy opstandig. En watter aandeel het Michael hierin?
Sy glo nie sy ly ’n aan ’n vervolgingswaan nie, maar sy is oortuig daarvan
daar skuil iets agter sy herverskyning en die huidige gebeure. Wat presies,
weet sy nie. Sy moet vasstel.
Agt
Sonika is verstom oor hoe vinnig slegte nuus versprei. Binne die bestek van
’n paar uur is daar oproepe van kollegas en kennisse van wie sy in maande
nie gehoor het nie. Haar hoop dat die hele ongemaklike situasie ongemerk sal
verdwyn, vervaag stelselmatig.
Haar pa bel haar laat die Maandagmiddag. Hy kom soos altyd dadelik tot
die punt. “Sonika, wat is aan die gang? My kollegas het my ingelig oor ’n
onsmaaklike berig oor jou in die geel pers.”
Nou word sy in die regsbank bespreek? Waarvoor kan ’n prokureur meer
vra? dink sy vies. “Dis korrek, Pa.”
“En is dit al wat jy kan sê? Watter verskoning kan jy aanbied? Hoe het dit
gebeur?”
Sonika verwag nie veel simpatie nie. “Ek is in ’n omhelsing met Michael
Meskin betrap en nou maak die media meer daarvan as wat dit regverdig.
Hulle probeer impliseer ons het sy regsbesigheid bekom deur my liggaam te
verkoop.”
Daar is ’n rukkie stilte aan die ander kant. Sy hoor net sy diep asemhaling
en Sonika besef haar pa onderdruk sy woede met moeite.
Hy gaan voort in sy kenmerkend afgemete styl. “Ek het so iets afgelei,
maar ek wou die feite uit jou mond hoor. My eerste vraag is waarom het jy
weer kontak met Meskin? Het jy nie jou les geleer nie? Jou ma het my ingelig
oor julle rusie en ek het gedink jy is intelligent genoeg om nie weer in sy strik
te trap nie. Ek is verkeerd bewys en jy moet besef ek veroordeel jou optrede.”
In die verlede sou hierdie woorde van haar pa in sy ongenaakbare
regterstem Sonika op haar knieë gehad het, nou luister sy afgetrokke. Sy
kritiek intimideer haar nie meer nie en sy ervaar ’n wonderlike gevoel van
bevryding.
“Verder wil ek weet wat jy gaan doen omtrent hierdie afkeurenswaardige
dilemma waarin jy jou bevind. Jou beeld word aangetas, maar so ook myne.
Hoe veronderstel jy moet ek die situasie verduidelik as my eie dogter nie ’n
deurdagte verskoning kan aanbied nie? My kandidaatskap as hoofregter word
ook gekompromitteer. Ek verwag dringende stappe van jou kant om seker te
maak nie een van ons ly skade nie.”
Teen hierdie tyd weet Sonika sy gaan nie ’n regverdige verhoor kry nie. Sy
antwoord soos van haar verwag word, maar kan nie die byt uit haar stem hou
nie. Sy verwerp egter die koppige gedagte om hom as u hoogedelagbare aan
te spreek. “Goed, Pa. Ek maak so, Pa. Lekker dag, Pa.”
Hy ignoreer die openlike uitdaging en beëindig die gesprek met ’n kortaf
groet.
Lank daarna staar Sonika na die selfoon in haar hand. Sy vee ’n
ongewenste traan van haar wang af. Sy kry meer ondersteuning van haar
goeie vriende as van haar ouers. Haar ma sal presies haar pa se houding
weerspieël. Sy beleef ’n herhaling van dieselfde koelbloedige benadering as
tydens die eerste Michael-debakel. Tot haar verbasing het haar pa nie daarop
aangedring dat Michael moet bly by daardie belaglike onderneming wat hy
met hom aangegaan het nie.
Die emosionele afstand tussen haar en haar ouers raak deur die jare groter
en sy weet dit hoef nie so te wees nie. Sy het die ander kant met haar vriende
se ouers gesien. Michael en Elise se verhouding was altyd benydenswaardig.
Hulle het min geld gehad, maar was ryk in hul liefde vir mekaar. Hoe
wonderlik was daardie kort rukkie toe sy deel van daardie hegte band was.
Die paar keer dat hulle op Elise se ouers se plaas gaan kuier het, het die
familie haar altyd as een van die gesin laat voel. Nie eens haar verhouding
met Hanro kon aan hierdie behoefte voldoen nie. Sy het skielik ’n
oorweldigende begeerte om met Monique te praat. Sy sal humor in die saak
sien en haar opbeur.
Monique antwoord met die eerste lui. Haar stem is vrolik en die klank is
strelend op Sonika se oor. “Haai, pel. Hoe was jou geselligheid Saterdag?”
“Interessant.” Sy antwoord versigtig. Sy wil nie oor die foon haar dilemma
bespreek nie. “Ek is lus vir kuier. Kan ons mekaar later sien, dan vertel ek jou
alles van die naweek.”
“Goeie voorstel, waar sal ons mekaar kry en hoe laat?”
“Kan jy my sesuur by die kantoor kom haal, ek is vervoerloos. My motor
het opgepak en herstelwerk sal moontlik eers oor ’n week gedoen word. Dit
gaan my ook ’n fortuin kos, ’n fortuin wat ek nie nou het nie en daarom is ek
nie haastig nie. Ek maak maar gebruik van die gunste en gawes van my
vriende.”
“Jou arme ding. Sien jou later.”

“Ek glo dit nie.” Monique begin onbedaarlik lag toe sy die berig lees. Sonika
loer ongemaklik na die ander gaste in die koffiewinkel. Gelukkig kyk
niemand na hulle nie.
“Ai, Sons, hoe kry jy jou in sulke situasies?” Sy sukkel om deur haar
lagbuie te praat.
Sonika haal haar skouers gelate op. Sy het nie ’n verweer nie.
Monique kyk ondersoekend na haar vriendin. “Die foto verbaas my nie, die
vonk tussen julle was van die begin af opvallend. Ek kon sien dinge gaan
gebeur ná daardie aand in die restaurant. En toe hy jou nog huis toe vat ...”
“Ek het te veel gedrink, daar het niks gebeur nie.”
“Ek weet, hy het my gebel en aanwysings gevra, maar nogtans. Maar wat
beteken hierdie berig vir jou beroep?”
Sonika vertel haar van die gesprek tussen haar en haar vennote.
“Jy is seker nie ernstig nie!” Monique kyk haar geskok aan. “Hy verdwyn
van die aardbol af terwyl jy dit alleen moet face?” Sy reik oor die tafel en
druk Sonika se hande vertroostend. “Miskien weet hy nie hiervan nie?”
Sonika skud haar kop. “Wie dink jy het die koerant by my kantoor laat
aflewer? Net ons twee het die berig verwag en dan is hy skielik
onbereikbaar?” Sy het nog niks van haar gesprek met Hanro gesê nie, want
hy is nie die een wat sy moet wantrou nie. En op die oomblik floreer sy op
Monique se simpatie, haar beterweterigheid sal sy later hanteer.
“Hemel, dis ’n tameletjie! En ek het gedink jý is die een met die boring
lewe.”
Sonika glimlag, maar dit verdwyn vinnig toe Monique die gevreesde vraag
vra.
“Wat sê Hanro?”
“Nie veel nie, dis uit tussen ons.”
“Wie het uitgemaak?”
“Ek.”
Monique verbaas haar deur nie triomfantlik daarop uit te brei nie. Sy los
Sonika se hande en roep die kelner nader, wat tot op hede onsuksesvol was
om ’n bestelling uit hulle te kry. “Wat jy nodig het, is ’n groot stuk
sjokoladekoek en koffie. Dit maak baie pyn en hartseer gesond.” Sy plaas die
bestelling. “En nou, vertel maar vir mamma Monique wat regtig tussen jou en
doktor Michael Meskin aan die gang is.”
Sonika sug berustend. Sy moes geweet het sy gaan nie so maklik wegkom
nie. Dit sal seker geen skade doen om Monique van haar gevoelens te vertel
nie. Sy is ’n erge terggees, maar nooit indiskreet nie. Miskien, as sy haar
ware gevoelens verwoord, kan sy ook sin daarvan begin maak.
Monique kyk afwagtend na Sonika.
“Om jou woorde te gebruik, daar is nog ’n vonk tussen ons. Niks meer nie.
Ek het ’n probleem met sy arrogante houding en nog van groter belang, daar
is ons verlede. Ek het vrede gemaak met sy verraad, ek het net soveel skuld
daaraan deur nooit my ouers oor hom in te lig nie. Ek het die ideale situasie
vir uitbuiting geskep. Dit beteken steeds nie dat ek my weer wil oopstel vir
seerkry nie.”
Monique kyk haar doodernstig aan. “Hoekom moet daar weer seerkry
wees? Hy het hopelik ook hieruit geleer. Ek wou niks sê met Hanro in die
prentjie nie, maar ek kan duidelik sien daardie hunk is nog gefassineer met
jou.” Sonika se gesig vertrek grimmig en Monique lig haar hande terwyl sy
voortgaan: “Ek wil nie argumenteer nie. Hoekom praat jy nie met hom
daaroor nie? Miskien kan jy iets uit sy kant van die storie leer.”
Sonika skud haar kop heftig. Sy is nie bereid om op daardie pad terug te
stap nie. Wat verby is, is verby. Sy kan nie weer ou wonde oopmaak nie,
want sy vrees ’n bevestiging uit Michael se mond en sy weet nie hoe haar
huidige broosheid weer so iets sal kan verwerk nie.
“Kom ons los die onderwerp. Ons gaan niks hierdeur bereik nie, ek en
Michael behoort tot die verlede. Al wat ek van hom wil hê, is sy hulp met die
penarie waarin ek my bevind. Kom ons praat eerder oor iets opbeurends.”

Die res van die week hou nog slegte nuus in. Woensdagmiddag lig Paul haar
in oor ’n klagte wat by die Prokureursorde ingedien is en dat sy binnekort ’n
amptelike kennisgewing moet verwag dat sy haar gedrag moet verduidelik.
Paul moet daagliks oproepe van ontevrede kliënte ontvang wat ’n
verduideliking oor die gebeure eis.
Michael het verdwyn en sy bestuurders is nie bereid om betrokke te raak
nie. Hulle verwys haar aanhoudend terug na Michael, en op die vraag waar
hy hom bevind, is die antwoorde ontwykend. Sonika voel hoe frustrasie en
woede in haar opbou en tot kookpunt kom met Monique se oproep
Donderdagmiddag.
Haar stem is angstig toe sy verneem of Sonika Michael in die hande kon
kry. Op Sonika se nee, gaan sy geesdriftig voort: “Wel, vertrou jou ou
vriendin om jou uit jou penarie te help. Raai wie het dié week ’n bietjie
bemarking in die Meskin-gebou gaan doen?” Monique gee haar nie kans om
op die vraag te reageer nie. “En watter vrou kan nou ’n free manicure weier?
Ek het persoonlik die diensie aan sy drie sekretaresses gelewer en watter bron
van kennis besit die dametjies nie. En die vraag op jou lippe is waar bevind
jou hunk hom? Nie oorsee of uitstedig nie, wel veilig in die Merensky-hotel
waar hy bly tot sy huis klaar is, en raai waar is ek nou?”
Die antwoord is voor die hand liggend. “Die hotel.”
“Bingo! En raai wie sien ek hier in een van die privaat eetkamers?”
“Michael.” Sonika kan nie die teleurstelling in haar stem verbloem nie. Sy
kan nie glo hy is so onderduims om voor te gee hy is uitstedig en intussen is
hy knus in ’n naburige hotel ingeburger nie.
“Presies! Jy is nie net mooi nie, maar slim ook.”
Sonika neem ’n daadwerklike besluit. “Het jy die tyd om hom dop te hou,
ek is op pad.”
Monique klink selfvoldaan. “Jou P.I. bly aan diens tot jy opdaag!”
Sonika reël vinnig dat sy Paul se BMW leen. Sy verskaf nie die rede vir
die dringende versoek nie en sien hoe hy sy spogstuk geskok agternastaar toe
sy met skreeuende bande wegtrek.
Sonika daag binne ’n rekordtyd by die hotel op. Sy neem terloops die
indrukwekkende omgewing in, haar oë op soek na Monique.
Monique loop haar uit een van die syvertrekke tegemoet. Sy beduie na die
trappe in die middel van die atrium wat na die tweede verdieping lei.
Selfs in haar ontsteltenis kan Sonika nie help om te glimlag nie. Monique
is in haar element in die sogenaamde klandestiene situasie.
“Hy is op die tweede verdieping, net langs die trappe,” fluister sy.
Voor Sonika in daardie rigting kan beweeg, kry Monique haar aan die
boarm beet. “Voor jy opgaan, moet ek jou waarsku, daar is ’n onbekende
blondine saam met hom en hulle lyk nogal baie intiem.” Monique se gesig
vertrek pynlik.
Sonika haal haar skouers traak-my-nieagtig op, maar word nog kwater. Hy
kuier kommerloos met sy jongste flerrie in ’n deftige hotel en los haar met
die gemors! Nou het hy te ver gegaan.
Vasberade stap sy met die trappe op na die tweede verdieping en gewaar
hulle onmiddellik, knus in ’n alkoof op ’n oranje tweesitplekrusbank met
twee leë koppies en koerante wanordelik op die tafeltjie voor hulle versprei.
Hulle is so innig op mekaar ingestel dat hulle haar nie dadelik opmerk nie.
Hul onoplettendheid verskaf Sonika ’n broodnodige oomblik om die intieme
prentjie te verwerk.
Jaloesie is vir haar ’n onbekende emosie. Haar selfvertroue is van so ’n
aard dat sy nooit deur enige vrou in enige situasie bedreig voel nie. Haar
gevoelens op die oomblik wil sy nie as sodanig klassifiseer nie. Al wat sy
weet, is sy ervaar ’n pynlike gevoel wat haar kortasem maak en haar liggaam
laat saamtrek ten aanskoue van die twee.
Albei is gemaklik geklee en ontspanne, asof hulle niks meer hoef te doen
as om mekaar se geselskap te geniet nie. Die blonde vrou met haar
donkerbruin oë is heelwat ouer as die blonde poppies gewoonlik aan sy sy.
Sy is nie beeldskoon soos die voriges nie, maar straal ’n innerlike
selfvertroue en karakter uit wat haar aantreklik maak sonder dat sy ’n woord
hoef te uiter. Definitief nie ’n flerrie nie. Inteendeel, ’n afgeronde vrou aan
wie ’n man soos Michael hom op lang termyn sal verbind.
’n Oomblik lyk sy bekend. Haar duidelike Britse aksent verwar Sonika
egter. Moontlik ’n spesiale vriendin van Londen wat by hom kuier, is haar
verbouereerde afleiding.
Sy vriendin kyk op en haar liggaam wat skielik styf word, waarsku
Michael teen Sonika se teenwoordigheid. Sy teer blik verdwyn en hy kyk vies
na haar.
Sonika kan nie help om ongemaklik te voel oor haar onderbreking van hul
privaat oomblik nie. Sy maak keelskoon voor sy haar versoek pertinent tot
hom rig. “Michael, mag ek asseblief alleen met jou praat?”
Hy verskuif sy blik na die blonde vrou langs hom wat hulle albei
nuuskierig dophou. “Angela, sal jy omgee as ek gou met my prokureur
praat?”
Sy knik toegewend terwyl sy vriendelik in Sonika se rigting glimlag.
Sonika glimlag ook vir haar en steek haar hand uit. Michael mag
ongemanierd wees deur haar nie voor te stel nie, sy is nie. “Ek is Sonika du
Plessis, een van doktor Meskin se prokureurs.”
Die vrou staan op en Michael is verplig om haar voorbeeld te volg. Sy
skud Sonika se hand terwyl sy haar as Angela Johnston voorstel. Tot Sonika
se spyt brei sy nie uit oor haar verbintenis met Michael nie.
Michael neem Sonika strydlustig aan die arm en trek haar na ’n vertrek ’n
entjie verder. Sonika lei terloops af dat dit die privaat eetkamer moet wees
waarvan Monique gepraat het aangesien die tafel nog vol gebruikte eetgerei
is. Sy word verhoed om enige verdere waarnemings te maak toe Michael
woedend begin praat.
“Wat soek jy hier, Sonika? Hoe het jy my hier gekry?”
Sonika besluit om die tweede vraag te ignoreer en beantwoord sy eerste
vraag deur ’n vraag van haar eie. Sy is die meester in ondervragingstegnieke,
hy gaan nie regter speel nie. Sy vou haar hande gemaklik agter haar rug, haar
liggaamshouding ooglopend ontspanne. “Het jy die berig oor ons gesien?”
Hy staar haar nou uitdrukkingloos aan, sy woede klaarblyklik in toom.
“Ja.”
“Ek dag jy sou reël dat dit nie verskyn nie.”
Hy haal sy skouers op. “Ek het klaarblyklik nie soveel invloed op die
media as wat ek gedink het nie.”
Sy sarkastiese antwoord maak haar nog kwater. “En jy verdwyn sodat ek
alleen skadebeheer moet toepas?”
“Ja.” Hy steek sy hande ongeërg in sy broeksakke.
Sy antwoord verstom haar en dan ontplof sy. Sy kan nie glo hy erken sy
verraad sonder enige berou nie. “Hoe durf jy?” Sy beweeg woedend nader.
Sy liggaam ontspan nog meer. “Hoe durf ek?” Hy herhaal haar woorde
rustig. “Ek mag vir ’n week uit my kantoor gewees het, maar as ek reg
onthou, werk jy vir my en nie ek vir jou nie. Probleemoplossing is jou
spesialiteit. Met watter voorstelle kom jy om die onsmaaklike publisiteit vir
my maatskappy te verminder?”
Hy plaas haar dadelik op die verdediging. Sy vou haar arms beskermend
om haar middel en staar amper verwese na die Persiese mat onder haar voete.
“Ek weet nie wat om te doen nie.” Haar woorde is amper onhoorbaar en
haar openhartige antwoord ruk hom.
Hy onderdruk die begeerte om haar in sy arms te neem en beloftes te maak
dat hy vir alles sal sorg. ’n Skokkende oomblik vergeet hy sy plan om haar
aan haar eie feilbaarheid bloot te stel, maar dan dring dit tot hom deur wie sy
is en woede stoot in hom op. Hy ken die vroulike truuk om weerloos te speel
wanneer ’n man gemanipuleer moet word.
Hy besef hy het haar verkeerd gelees toe hy sien hoe sy skielik haar
skouers terugtrek en hom met gebalde vuiste konfronteer.
“Jy weet baie goed bemarking is nie my werk nie! Jy het ’n hele span
daarvoor en ek verwag dat jy jou verantwoordelikheid nakom. Ek was nie
alleen in daardie omhelsing nie. Ek eis ’n oplossing van julle kant teen
Maandag, anders gaan jy ook skade ly. Daarvan sal ek seker maak.”
“Dreig jy my, Sonika?” Sy stem is yskoud en hy klem sy hande in sy
broeksakke.
Haar blik weifel nie voor syne nie. “Ja, en moenie ’n oomblik twyfel ek sal
dit nie deurvoer nie. Wat ook al nodig is, sal ek gebruik om jou saam met my
af te trek! Jou skielike verskyning in my lewe is nie so toevallig nie, is dit?
Wat presies probeer jy bereik?”
Hy kyk haar smalend aan. “Jy vlei jouself as jy dink ek het al die pad van
Londen af gekom om jou lewetjie te kompliseer. Jy is lankal nie eens meer op
die radar van my geheue nie.”
Sonika draai summier om en stap uit. Buite die hotel bring die motorwag
die BMW en ingedagte klim sy in en skakel die motor aan. Haar hand bewe
merkbaar. Sy huiwer ’n oomblik voor sy die motor in eerste rat sit.
Haar optrede was onaanvaarbaar, besef sy. Sy het nog nooit iemand
openlik gedreig nie. Leë dreigemente daarby. Hoe kan sy hom skade
aandoen? Hy is finansieel sterk genoeg om ongeskonde uit enige negatiewe
publisiteit te stap. Hy lag haar seker nou uit.
Sy trek versigtig weg. Indien Michael nou teen haar en haar vennote draai,
kan sy net haarself blameer. Daar was ’n stadium toe dit haar oogmerk was,
maar die situasie het drasties verander met haar vriende se toekoms wat nou
op die spel is.
En hoe onbevoeg lyk sy nie. Sy was veronderstel om in beheer van die
situasie te wees, sy het die voordeel van die verrassingsfaktor gehad, en wat
’n gemors het sy nie daarvan gemaak nie. Sy begin twyfel oor haar eie
professionele vermoëns, en asof dit nie genoeg is nie, is daar min in haar
persoonlike lewe om oor opgewonde te wees. Haar lewe is besig om
stelselmatig uit te rafel.

Michael reageer deur middel van ’n SMS op haar selfoon die Saterdagoggend
tydens ’n muurbalwedstryd met die versoek vir ’n vergadering binne ’n
halfuur by sy hotel. Teëstribbeling teen die kort kennisgewing sal hulle nie
waag nie, besluit hulle en Sonika verkies ook om so gou moontlik die
gesprek agter die rug te kry.
Hulle het nie tyd om te verklee nie. Hulle stort vinnig en geklee in
sweetpakke, vertrek hulle in Paul se motor.
Sonika het nie haar vennote ingelig oor die fiasko by die hotel nie. Sy wil
nie hul geduld met haar onbeholpenheid verder toets nie. Tydens die rit is sy
stil. Sy deel nie haar vrese oor die vergadering met hulle nie.
Hulle word na die boonste verdieping begelei waar die hysbak op ’n
weelderige suite oopmaak. ’n Aantal deure lei uit na nog vertrekke en
Michael kom deur een van die deure te voorskyn. Daar is geen teken dat
Angela hier bly nie.
Michael lyk ontspanne in ’n T-hemp en jeans. Sy half nat hare krul
ongetem en hy straal ’n subtiele, manlike vitaliteit uit. Sonika probeer weer
haar woede van die vorige keer voel, maar sy kan op niks anders konsentreer
as sy breë skouers, sy gespierde arms en sy welgevormde onderlyf nie ... Die
spottende trek om sy sensuele lippe ruk haar tot haar sinne. Sy val
herhaaldelik in dieselfde lyflike strik, besef sy opnuut verdwaas.
Michael beduie na die sitplekke waar haar vennote hulle reeds tuisgemaak
het. Hulle het op die enigste twee leunstoele om die koffietafel gaan sit en net
’n rusbank bly vir haar en Michael oor.
Sy gaan sit op die punt van die bank. Michael bestel koeldrank en gaan sit
langs haar. Sy skoon reuk terg haar en sy klem haar bewende hande op haar
skoot vas.
Nadat hul drinkgoed bedien is, begin Michael praat. “Ek en my
bestuurspan het die onsmaaklike berig bespreek en ons oorweeg op die
oomblik twee opsies om die negatiewe publisiteit te verminder. Watter opsie
ons neem, sal bepaal word deur die aard van julle samewerking. Die belange
van my maatskappy word te alle tye eerste gestel. Ons eerste opsie, en
ongelukkig tot julle nadeel, is ’n persverklaring waarmee ons die media inlig
dat ons nie verder van julle dienste gaan gebruik maak nie.” Hy neem rustig
’n sluk van sy sap voor hy voortgaan. “Ons verweer sal wees dat ek tydelik
meegevoer was deur die skoonheid van julle prokureur en ’n ondeurdagte
besluit gebaseer op my emosies geneem het. Die beeld van my maatskappy
sal nie skade ly nie omdat daar, wel onregverdig, ’n persepsie heers dat mans
geneig is om in die strikke van mooi vroue te trap en daarom swak besluite
neem. Ek behoort selfs simpatieke ondersteuning van die manlike publiek te
ontvang.”
Hy glimlag sinies met sy laaste opmerking en Sonika kan hom net
aanstaar. Hy oorweeg dit om haar vir die leeus te gooi en dan glimlag hy nog
daaroor. Hy keer met sy hand toe sy haar mond oopmaak om te praat. “Wag,”
beveel hy haar, “ek is nog nie klaar nie. Ons besef die impak op julle
besigheid kan moontlik fataal wees, maar iemand sal die prys moet betaal.”
Sonika kyk vinnig na haar vennote. Paul is bleek en Kobus staar benoud na
die glas in sy hand. Hulle sê egter nie ’n woord nie.
“Met die ander opsie is ons meer tegemoetkomend. Dit behels ’n
reklametruuk waarin ons die media inlig dat ek en Sonika beplan het om
verloof te raak en dat die berig ons gedwing het om dit vinniger bekend te
maak. My reklamespan sal voortborduur op die gegewens soos waar ons
mekaar ontmoet het, hoe lank ons mekaar ken, en so meer. So ly niemand
skade nie, aangesien dit sin maak dat ek my regsbesigheid na my verloofde se
praktyk bring. Ná ’n paar maande sal ons ’n verklaring uitreik dat ons nie met
ons verlowing voortgaan nie.” Hy sak agteroor op die bank terwyl hy vir hul
reaksie wag.
Sonika staar net verdwaas voor haar uit, nie seker of sy reg gehoor het nie.
Sy sit behoorlik tussen twee vure, besef sy oorbluf. Sou sy die tweede
voorstel afkeur, doen sy haar vennote skade aan. ’n Verlowing met hom, selfs
al is dit net skyn, beskou sy as ’n persoonlike nederlaag. Die gedagte om
weer aan hom verloof te raak, is afstootlik en nou word so ’n besluit op haar
afgedwing. Met haar twee vriende se gespanne blikke op haar gerig, besef sy
sy het nie juis ’n ander keuse nie.
“Julle is welkom om daaroor te beraadslaag.” Sy welwillende aanbod
beïndruk Sonika nie. Sy ignoreer hom blatant. Op hierdie oomblik is dit
veiliger, aangesien sy aanranding as ’n derde opsie oorweeg.
“Sonika?” Paul trek sy wenkbroue vraend op.
Sy skud haar kop verslae, staan op en stap na die venster wat op die welige
tuin van die hotel uitkyk. Die ironie van die situasie ontglip haar nie. Langs
die swembad ontspan hotelgaste kommerloos terwyl sy een van die
onsmaaklikste situasies in haar lewe moet konfronteer. En weer eens is
Michael betrokke.
“Daar is niks om te bespreek nie.” Die erkenning brand suur op haar tong.
“Ek aanvaar die tweede aanbod. Maar ...” Sy draai om en kyk vas in Michael
se oë. Haar lyf bewe en sy is yskoud, maar nogtans neem sy ’n onverskrokke
houding in. “Moenie dink jy kry my onder nie. Ek weet nie wat jou
onderliggende doel met hierdie belaglike voorstel is nie, maar sodra die stof
gaan lê het, kom hierdie gemors tot ’n einde en dan beoog ek om alle kontak
met jou te verbreek, al moet ek my aan die vennootskap onttrek. Daarna wil
ek jou nooit weer sien nie!”
Sonika stap summier in die rigting van die hysbak en ignoreer Paul se
geskokte protes oor haar aankondiging. Sy is dankbaar toe die hysbak vinnig
daar is. Sy stap in. Sy sal nie gaan lê nie, is haar besliste voorneme.
Nege
Die week begin met ’n vaart en die Meskin-groep se reklameafdeling laat nie
op hulle wag nie. Die oggendkoerante is vol van hul sogenaamde verlowing.
’n Faks van die Meskin-bemarkingsafdeling wag vir Sonika in haar kantoor
met besonderhede van die persverklaring. Die meeste daarvan is ’n
gefabriseerde storie van hul ontmoeting en verhouding, die res bekende
inligting oor albei se beroepe.
Sonika blaai met ’n siniese glimlag deur die koerante. Nog ’n sprokie word
aan die publiek opgedis wat dit vir soetkoek sal opeet, min wetend alles is
een groot leuen. As dit egter die prys is wat sy vir haar onverantwoordelike
optrede moet betaal, dan doen sy dit. Die einde is in sig. As sy Michael se rol
in hierdie fiasko ontleed, loop sy haar teen ’n donker muur van
onbeantwoorde vrae vas. Sy het seker die grootste aandeel daarin, maar iets
wil tog vir haar sê hier is ’n georkestreerde poging om haar skade aan te
doen.
Monique was die enigste een wat sy persoonlik ingelig het. Sy was
sensitief genoeg om nie veel kommentaar te lewer nie. Sy het ’n SMS na haar
ouers gestuur. Sy wou niks met hulle bespreek nie, hulle kon self die nodige
afleidings maak.
In die loop van die oggend word sy oorval met gelukwense van haar
personeel en oproepe van vriende en kollegas. Dis vir haar moeilik om
heeltyd die rol van ’n opgewonde verloofde te speel, maar sy druk
tandeknersend deur. Van Michael en haar twee vriende het sy niks verder
gehoor sedert Saterdagoggend se vergadering nie en sy is dankbaar daaroor.
Laatoggend gee sy opdrag aan Jennifer om geen verdere oproepe deur te
sit nie. Sy het tyd nodig vir voorbereiding vir die volgende dag se hofsaak.
Sy loer verward in haar dagboek toe Jennifer haar ná middagete inlig oor
’n Alan Garr wat haar wil spreek. Niemand is geskeduleer nie, maar die
moontlikheid van ’n vergissing ná laas week se chaos is nie onmoontlik nie
en sy stap terstond na die raadsaal waar hy wag.
’n Kaalkopman, deftig geklee in ’n duur, swart pak met ’n massiewe
aktetas in sy hand en iemand wat welvarendheid uitstraal, wag haar in. Hy
groet haar gulhartig in gebroke Afrikaans. Sy staar hom verward aan.
“Ek is nie hier vir regsadvies nie,” stel hy haar gerus. “As ’n persoonlike
guns aan Michael is ek hier om jou te help om jou verloofring te kies. Ek is
van Garr-juweliers.”
Die naam kan nie anders as om ’n klokkie te lui nie, dis een van die
bekendste en eksklusiefste juweliers in die stad gerig op die superryk mark.
Nie binne die finansiële bereik van die man op die straat nie.
Hy glimlag afwagtend.
“Daar is groot misverstand.” Sonika frons geïrriteerd. Wat probeer Michael
nou weer bereik? Hy is op die hoogte van haar mening oor verloofringe. En
sy gaan regtig nie haar kosbare tyd met die nonsens mors nie.
“Sal u my ’n oomblik verskoon?” vra sy beleef aan die verbaasde Alan en
stap uit.
In haar kantoor skakel sy sy selnommer en hy antwoord met die eerste lui.
Sonika hou haar stem rustig, sy wil nie in ’n onsmaaklike woordestryd
betrokke raak nie. “Jy weet hoe ek oor ’n verloofring voel. Waarvoor stuur jy
’n juwelier hierheen?”
Sy stemtoon is ook gelykmatig. “Dis jou keuse, maar my reklameafdeling
dink dis nodig. As daar nie ’n ring is nie, mag daar nog meer aandag op ons
gevestig word. ”
Sonika reageer nie dadelik nie. Hulle het ’n geldige punt. Dit sal snaaks lyk
as daar nie ’n ring is nie. Dit kan net meer vrae laat ontstaan en sy soek nie
nog aandag nie.
Toe hy nie reaksie kry nie, stuur hy die onderwerp in ’n ander rigting.
“Wat sê jou eksverloofde van die verlowing?”
Sy tartende vraag dwing haar weer tot ’n noodleuentjie. “Hy is nie
gelukkig daarmee nie, maar hy is bereid om te wag.”
“Ek is bly vir jou onthalwe. As jy my sal verskoon, ek is in ’n vergadering.
Ons kan later praat.”
Sonika staar vies na die foon in haar hand. Wat moet sy doen? Sy wil nie
nog aandag op haar vestig nie, maar sy is ook nie bereid om haar beginsels
eenkant toe te stoot nie. Sy vryf radeloos deur haar hare en dan glimlag sy. Sy
stap terug na die raadsaal.
Alan staan op en kyk haar afwagtend aan.
“Voor ek ’n ring kies, het ek twee versoeke.”
“Ek luister.”
“Ontwerp jy verloofringe vir mans?”
Hy lyk verbaas. “Ek moet erken ek het nog nooit so ’n versoek ontvang
nie.” Hy huiwer ’n oomblik. “Ek weet dis ’n tendens in Europa. Ek is egter
altyd bereid om iets te ontwerp. ’n Vinnige idee is ’n stel met ’n verloofring
en troupand wat inmekaarvleg. Die een platinum en die ander in goud?”
Sonika knik inskiklik. “Enigiets, solank dit smaakvol is. Jy is die kundige.
Stuur die rekening vir my. Dan soek ek ’n verloofring van presies ’n
halfmiljoen rand.” Nou toon hy geen verbasing nie, maak sy aktetas oop en
bring ’n versameling ringe te voorskyn.
Sonika is oorbluf. Sy het nog nooit so iets aanskou nie – ry op ry ringe in
elke vorm en grootte en kleur. Vir die eerste keer verstaan sy die doel van die
ketting wat die aktetas met sy arm verbind – hierdie man loop met ’n fortuin
rond.
Alan beduie na een van die rye. “Hierdie ringe val min of meer in die
prysklas.”
Sonika se aandag word onmiddellik getrek deur ’n eenvoudig ontwerpte
ring met ’n vierkantige solitêrdiamant. Sy haal die ring uit die houer en stoot
dit oor haar ringvinger. Sy voel hoe hoendervleis oor haar liggaam uitslaan.
Sy onthou weer die dag toe Michael ’n eenvoudige ringetjie vir haar aangesit
het. Sy wonder gereeld wat van die ring geword het nadat haar ma dit afgeruk
het. Haar ma het altyd die vraag omseil. Geen ander ring sal daardie een
vervang nie, maar dié ring is ’n goeie plaasvervanger vir die halfmiljoen wat
hy uit haar ouers het.
Alan is geesdriftig oor haar keuse. “Uitstekende besluit. Die styl pas perfek
by u slanke hand en die vierkaraatdiamant voldoen aan al vier vereistes van
’n uitsonderlike hoëgehaltesteen.” Hy brei uit oor die snit en kleur van die
diamant.
Sonika glimlag sinies. Met die astronomiese prys verwag sy niks minder
nie. Sy huiwer nie verder nie. Romanse speel nie hier ’n rol nie, sy moet die
geleentheid gebruik om ’n boodskap te stuur. “Ek sal dit vat as jy dit vir
presies ’n halfmiljoen rand sal gee.”
Alan glimlag inskiklik, asof hy elke dag met vroue oor die prys van hul
verloofringe onderhandel. “Dan het ons ’n ooreenkoms. Ek wil net graag u
vingergrootte neem, Michael s’n behoort ek reg te skat. Die ringe sal teen
Vrydag gereed wees.”
Sonika glimlag bekoorlik vir hom. Sy voel hoogs tevrede met die
transaksies, sy twyfel nie dat Michael die onderliggende boodskap sal
raaksien nie.
Terug in haar kantoor wag ’n boodskap van die Merensky-hotel oor
reëlings vir haar verlowingsonthaal. Sy gee opdrag aan Jennifer om hulle na
die Meskin-groep te verwys. Sy beoog nie om enigsins by die klug betrokke
te raak nie. Waarom so ’n geselligheid nodig is, weet sy nie, maar as Michael
se reklameafdeling waarde daarin sien, dan val sy maar daarby in.

“Michael, hier is die finansiële state wat jy soek.”


Graeme staan voor Michael se lessenaar en kyk ingedagte na die lêer voor
hom. Hy vat die dokument sonder om daarna te kyk.
“O ja, Alan het die verloofring afgelewer en ek het dit namens jou in
ontvangs geneem.” Graeme vroetel in sy sak en haal die houertjie uit. “Moet
ek die koste na jou persoonlike rekening verwys?”
Michael knik bevestigend en hou sy hand uit. “Het jy die prys gesien?”
Graeme wys hom die faktuur. Michael frons toe hy die bedrag sien en maak
dan stadig die ringhouertjie oop.
“Jy lyk ongelukkig. Ek het ook gedink dis ’n te duur ring en nie gepas vir
’n skynverlowing nie. Ek weet jy kan dit bekostig, maar vir ’n onafhanklike
dametjie het sy darem duur smaak op jou koste.” Die neerhalende klank is
duidelik in sy stem.
Michael antwoord nie, staar net ingedagte na die vonkelende diamantring
in sy hand. Haar keuse is foutloos. Sy kundige oog herken ’n uitsonderlike
steen en die eenvoud van die styl beklemtoon die skoonheid van die ring. In
normale omstandighede sou hy niks minder vir sy aanstaande koop nie, maar
die prys verwar hom. Die toeval is te groot, dink hy. Hoekom presies die
bedrag wat haar pa hom aangebied het en hy met die nodige minagting
verwerp het? Wat probeer sy vir hom sê? Probeer sy hom treiter?
“Michael?” Graeme probeer sy aandag trek. “Ek hoop jy kry ten minste die
ring terug wanneer die fiasko oor is.”
Michael gee hom ’n waarskuwende kyk. “Ek is ’n sakeman, nie ’n sot nie.
Betaal net die ding, die res is my probleem.” Hy tel sy selfoon op. “Jy is
verskoon, ek wil ’n oproep maak.”
Hy kyk terloops hoe ’n geaffronteerde Graeme uitstap terwyl hy wag dat
Sonika haar selfoon antwoord.
“Michael?” Haar stem klink afgetrokke.
“Steur ek jou?”
“Ek is net besig met die aanpassing van julle dienskontrakte, maar jy kan
maar praat.”
“Jou verloofring is hierheen gebring.”
Sy reageer nie op sy opmerking nie.
“Dis ’n duur ring.”
Weer ’n oomblik van stilte en dan kom haar stem rustig oor die lyn. “O, is
die prys ’n probleem? Jy het geen limiet gestel nie, maar as jy dit nie kan
bekostig nie ...”
Michael kners op sy tande voor hy sê: “Dis nie wat ek sê nie.”
“Nou wat sê jy dan? Ek kan nie gedagtes lees nie.” Nou klink sy uittartend.
Michael se vingers knel wit om die pen in sy ander hand. “Hemel, Sonika,
ek wil nie baklei nie. Weet jy hoeveel die ring kos?”
“Ja. ’n Halfmiljoen rand.”
“Presies, en waarom het jy juis op ’n ring van dié bedrag besluit?”
“Dis ’n mooi ring. Wat probeer jy andersins insinueer? Dat daar ’n ander
rede agter my besluit is? Wel, miskien is jy nie die enigste met ’n agenda
nie.”
Hy frons. “Wat bedoel jy?”
“Dis heel eenvoudig. Tot jy nie oop kaarte speel nie, moet dit nie van my
verwag nie.”
“Sonika, jy maak nie sin nie.”
Haar stem word koud en afsydig. “Nee, dis net jou optrede wat nie logies
is nie, myne is verstaanbaar. Ek het niks verder om te sê nie.” Sy druk haar
selfoon summier dood.
Woedend gooi Michael sy selfoon op sy lessenaar. Haar raai-raai-speletjie
irriteer hom terwyl hy weet hy is die een met die verskuilde agenda. Wat voer
sy in die mou? Hy hou nie van die gevoel dat sy nou in beheer van die
situasie is nie.

Sonika is hoogs tevrede met haar voorkoms toe sy by die Merensky-hotel


aankom. Sy is geklee in ’n lang, moulose smaraggroen rok, afgerond met ’n
goue handsakkie en fyn sandale. Monique het gereël dat sy by een van haar
skoonheidsklinieke onder hande geneem word. Haar grimering en naels is
foutloos en haar gestileerde hare omraam haar gesig sag.
Selfs die hovaardige David wat gestuur is om haar te gaan haal, kan nie sy
bewondering wegsteek nie. Sonika geniet ’n oomblik die aandag van die
hotelpersoneel, dis min dat sy soos ’n koninklike behandel word.
Sy word na die boonste verdieping vergesel waar Michael vir haar wag.
Hulle het nog geen kontak gehad sedert hul onplesierige foongesprek oor die
ring nie en sy weet nie wat om te verwag nie. Toe sy sien hoe hy vries waar
hy besig is om sy baadjie aan te trek, vloei genoegdoening onbeskaamd deur
haar. Sy reaksie vergoed ietwat vir sy vorige optredes.
“Sonika ...” Hy gaap haar aan. “Jy lyk ...” Hy soek na die woorde. “...
ongelooflik mooi.”
’n Bekoorlike glimlag, die eerste sedert hul herontmoeting, verskyn op
haar gesig. Sy stap nader en beskou hom krities. Die aantreklike prentjie van
hom in ’n deftige aandpak is nie meer vreemd nie, maar ook nie die effek op
haar nie.
“Dankie, jy lyk ook ... ongelooflik.”
Die kepe in sy wange verdiep in ’n gemaklike glimlag.
Sonika moet haar eiesinnige hande agter haar rug vasklem om te keer dat
een strelend oor sy skoongeskeerde wang gly en na sy lippe beweeg.
Michael verbreek die stil oomblik. “Help my met my baadjie.”
Sonika sit haar handsakkie op die koffietafel neer en staan gewillig nader
om hom te help om sy wit aandbaadjie oor sy skouers te trek. Sy verskuif
haar hande na die baadjieknope en maak dit een vir een vas. Sy neem haar
tyd. Stadig gly haar hande oor sy harde bors en deurentyd is sy bewus van sy
onreëlmatige asemhaling.
Haar wange voel warm toe sy die boonste knoop bereik. ’n Lang ruk staar
hulle na mekaar. Hy vou haar bewende linkerhand in syne toe en met sy
ander hand haal hy haar ring uit sy broeksak. Die diamant vonkel suiwer in
die elektriese lig. Hy skuif dit stadig oor haar vinger. ’n Ademlose Sonika
hou hom stip dop. Daar is ’n vreemde uitdrukking in sy oë. Hy verskuif sy
blik van die ring na haar gesig en bring haar hand na sy lippe. Die hele
wêreld kom tot stilstand en Sonika is vasgevang in die magiese oomblik. Net
’n moment verbeel sy haar dis ’n ware verlowing en Michael haar beminde.
Sy verbreek teësinnig die betowering deur na haar handsakkie te reik en
daarin rond te vroetel. Toe bring sy die platinumring te voorskyn. Sy glimlag
fyntjies toe sy die verbouereerde uitdrukking op sy gesig sien.
“Dis vir jou.” Sy kan nie haar tevredenheid wegsteek nie. “Jy het seker nie
gedink jy gaan so maklik wegkom nie.” Sy neem sy onwillige linkerhand en
steek die ring aan. Dit pas perfek. Alan se belofte dat hy die grootte sekuur
sal kan skat, is reg bewys. “As ek ’n verloofring dra, dan sal jy ook.”
Sy wag angstig op enige teëstribbeling.
Hy draai die ring ongemaklik rond, ’n wrang glimlag op sy gesig. “Ons is
nog nie getroud nie en ek moet al klaar toegewings maak.”
Sy geamuseerde opmerking verstom Sonika. Sy het nie verwag hy sal so
maklik ingee nie. Hulle staar mekaar weer ondersoekend aan. Onuitgesproke
gedagtes lê swaar tussen hulle. Asof hulle gelyktydig onthou van die ware
rede vir hul verlowing beweeg hulle stram van mekaar af weg.
“Ons moet by die gaste aansluit.” Sy knik bevestigend op sy halfhartige
opmerking en stap hysbak toe. Hy volg op ’n afstand.

Die hoteltuin is pragtig versier met oranje, geel en wit blomme. Op die
agtergrond speel ’n strykkwartet ligte klassieke musiek en oral staan gaste
rond terwyl kelners, geklee in wit-en-swart uniforms, drinkgoed aandra.
Sonika ken die meeste mense nie en stap vinnig na waar Monique en Theo
eenkant staan.
Monique, geklee in ’n lang, pers rok, omhels haar opgewonde. Haar
nuuskierige blik gaan onmiddellik na Sonika se ringvinger. Sy kry haar hand
beet. “My liewe hemel, Sons, was dit regtig nodig om so cheap te wees? Ek
is seker Michael kon beter as dit bekostig.”
Sonika lag terwyl sy Theo ’n drukkie gee.
“En waar is jou verloofde dat ek hom kan gelukwens?”
Sonika draai om en kyk dan verbaas rond. ’n Oomblik gelede was Michael
nog aan haar sy.
Monique beduie na die ander kant van die tuin. “Daar is hy, daar waar al
daardie vroumense vergader is.” Haar stem weerspieël haar ontevredenheid.
Nuuskierig kyk Sonika na waar Monique beduie. Sy moet ’n oomblik diep
asemhaal om die beklemming om haar hart te verlig. Sy het gedink Monique
maak ’n grap, maar hy ís omring deur ’n groep vroue, met Jessica ingehaak
aan sy linkerkant en sy arm om Angela se middel. Sy herken die ander
gesigte. Hulle het gereeld saam met hom in die skinderblaaie verskyn. Het
hulle dan spesiaal vir die geleentheid oorgevlieg? Sy kan dit amper nie glo
nie. En sy het dit nie eens oorweeg om Hanro te nooi nie.
“Moenie worrie nie, hulle het miskien sy aandag, maar jy dra sy ring.” Sy
beloon Monique se vertroostende woorde met ’n stram glimlag. Wie bluf
hulle? Albei weet die verlowing is ’n klug.
Monique trek haar aan die arm. “Kom ons gaan sluit by Paul-hulle aan.
Hulle het opgedaag.”
Sonika volg haar vriendin met loodswaar bene. Sy luister net terloops na
die gesprek wat Monique begin oor die indrukwekkende hotel en sy
fasiliteite. Haar oë dwaal terug na Michael en sy groep bewonderaars. Moet
sy by hulle aansluit? Moet sy haar alleenreg op hom bevestig? Sy sug
moedeloos. Watter reg? Hoe vinnig vergeet sy die waarheid. Sy het geen reg
op hom nie.
Sy neem ’n slukkie van die sjerrie wat Monique vir haar aangee. Die
stemme van haar vriende is vaag om haar. Die sjerrie vloei warm deur haar
lyf. Hoekom voel sy dan steeds so verskriklik koud? Sy moes nooit so ’n kaal
rok aangetrek het nie.
“Hier is jou ouers.” Monique se sagte woorde ruk haar uit haar morbiede
gedagtes. Stadig stap sy hulle tegemoet. Sy is verbaas dat hulle opgedaag het,
seker bang oor die bespiegelings as hulle nie sou nie. Hulle groet stram,
duidelik ongemaklik om hier te wees. Nie ongemakliker as sy nie, dink sy. Sy
is verlig toe Monique en Theo by hulle aansluit, maar selfs Monique gee ná
’n ruk op toe die gesprek nie aan die gang kom nie.
“Sonika, daar is iemand wat jou roep.” Monique beduie in ’n rigting en
trek ’n gewillige Sonika weg. Verskuil agter ’n pilaar kyk Monique
bekommerd na haar. “Hulle is nie baie opgewonde oor die situasie nie, is
hulle?”
Sonika knik net. Dis nou die laaste van haar bekommernisse.
Monique se stem word driftig. “Wat is Michael se storie? Hoekom is hy
nie aan jou sy nie? Julle moet darem voorgee julle is verlief. As hy so
aangaan, gaan die mense begin praat en jy het dit regtig nie nodig nie. Wat
probeer hy bereik?”
Sonika haal haar skouers op. Wat moet sy daarop antwoord? Sy sluk die
knop in haar keel weg en kyk weer eens in sy rigting. Hy is in ’n intieme
gesprek met een van die blondines gewikkel, haar hand is teen sy bors gestut
en hy het net oë vir haar.
Angstig probeer sy oogkontak met hom maak, hom met haar wil dwing om
na haar te kyk, haar teenwoordigheid te erken. Dit werk nie, want hy draai net
na Jessica, wat iets in sy oor fluister. Hy glimlag breed. Sonika kyk weg.
Gaan hy dan nie by haar aansluit nie? Die ou, selfversekerde Sonika sou nie
gehuiwer het om nader te stap en sy aandag op haar alleen te vestig nie, hy
het haar egter in ’n onseker vrou verander wat nie weet wat om te doen nie.
Hoekom kry sy die angswekkende gevoel dat sy weer eens uitgelewer word?
Kelners begin kos op silwerskinkborde uitdra. Met Kobus en Monique aan
haar sy beweeg sy stram deur die gaste, gesels hier en daar met iemand wat
sy ken.
Sy probeer opnuut sy aandag trek toe sy in ’n verslaggewer vasloop en hy
haar met vrae peper. Maar hy kyk nie na haar nie, steeds knus omring deur sy
bewonderaars. Dis Monique wat haar te hulp snel en van die knaende
verslaggewer ontslae raak.
Sonika klem die glas in haar hand vas toe sy sien hoe Jessica se kop teen
Michael se skouer rus. Sy oorhandig die glas aan die naaste kelner. Sy moet
liewer niks meer drink nie, haar maag is leeg en die reuk van kos maak haar
naar. Netnou maak sy weer ’n gek van haarself, want in dié stadium is sy
gereed om ’n blondine of twee te lyf te gaan, en sulke aggressiewe gedagtes
is teen haar aard. En nog erger, sy is nie die enigste een wat die abnormaliteit
van die situasie raaksien nie. Van die gaste begin betekenisvolle blikke
wissel.
Monique vou skielik ’n vertroostende arm om haar skouer. Sonika sluk
haar trane weg voor sy na haar vriendin kyk.
Monique se skerp oë kyk niks mis nie en sy roep Kobus nader. “Sal jy
Sons huis toe vat, sy voel nie lekker nie.”
“Maar ...” Vervaard beduie Kobus na Michael en terug na Sonika. “Die
formaliteite is dan nog nie ...”
Monique maak hom met ’n waarskuwende blik stil. “Doen asseblief net
wat ek sê.”
Hy stem in en ’n willose Sonika volg hom na sy BMW. Sy kan nie omgee
oor die afleidings wat die gaste maak omdat sy die geleentheid voor hulle
verlaat nie. Sy kan nie langer die foltering hanteer nie.

Michael het ’n nuwe oorwinning oor haar behaal, moet sy magteloos toegee
toe sy kort daarna opgekrul in haar bed lê met die diamantring in die kluis
gebêre. Hy het haar dalk van ’n professionele vernedering gered, net om dit
met ’n persoonlike vernedering voor al die belangrike mense in haar lewe te
vervang. En môre sal die koerante die publiek inlig dat Sonika nie vrou
genoeg is om eens die aandag van haar verloofde op hul verlowingspartytjie
te behou nie en die geskinder oor hul verlowing sal begin.
Die ergste gedagte is dat hy moontlik onwetend haar kwetsbaarste deel
getref het. Sy druk haar kop in haar kussing, maar die gedagte wyk nie. Daar
in sy hotelkamer het sy vir ’n kort rukkie gehoop hulle het die verlede
agterlaat en kon miskien weer iets tussen hulle ontdek, en weer eens is sy
uitgewys as die naïewe een. Hy wou haar nie jare gelede gehad het nie, wat
sou intussen verander het? Hy kan uit die mooiste vroue in die wêreld kies,
waarom sal hy sy tyd mors met iemand wat nooit die paal kon haal nie? En
steeds wonder sy wat sy verkeerd gedoen het om hierdie pyn en vernedering
te verdien.
“Jou optrede was laakbaar, Michael!” Angela gooi haar aandsakkie op die
koffietafel neer en dit gly tot op die vloer. Sy kyk beskuldigend na hom waar
hy nog in sy aandpak op die rusbank sit.
Michael kyk beswaarlik op. Hy speel net met die ring in sy hand terwyl hy
’n sluk van sy whisky neem. “Ek kan nie glo jy gebruik my so nie. En asof dit
nie erg genoeg was nie, was dit onhoudbaar om toe te kyk hoe jy daardie
Jessica-vrou aangemoedig het. Jy het Sonika voor ’n skare mense verneder en
jy sit hier asof jy pas ’n suksesvolle saketransaksie afgehandel het.”
Sy kom reg voor hom staan en hy kan nie anders as om na haar te kyk nie.
“Jy is ’n bitter mens, Michael. Ek wens soms ek het die sorgelose jongman
geken, ek dink ek sou meer van hom gehou het. Wanneer gaan jy begin vrede
maak met die verlede? Hoe lank wil jy nog hierdie wrok teen haar koester?”
“Jy weet nie waarvan jy praat nie.” Hy forseer die woorde oor sy droë
lippe. “Jou kind is nie geaborteer nie ...” ’n Spiertjie spring in sy wang en hy
kan voel hoe sy hele liggaam van ingehoue woede bewe.
“Ek weet, Michael.” Haar stemtoon is nou sagter en sy kyk hom simpatiek
aan. “Maar het jy al daaraan gedink dat sy moontlik gedwing was in haar
besluit? Kyk net na haar ouers vanaand. Lyk hulle soos mense wat hul dogter
sou ondersteun? Miskien het hulle haar geen keuse gegee nie. Ek praat nie ’n
aborsie goed nie, maar jy moet in ag neem dat ander faktore ’n rol kon speel.”
“Ek wil dit nie verder bespreek nie!”
“Jy vermy elke keer die onderwerp in die hoop dat wraak verligting sal
bring. Glo my, dit gaan nie. Begin vrede maak met die verlede, anders gaan
jy altyd ’n ongelukkige, eensame man wees. Jy het ’n obsessie met haar wat
jou gaan vernietig. Jy moet haar vergewe, of haar uitlos, maar so kan dit nie
aangaan nie! En ek sê jou nou sodat dit nie as ’n verrassing kom nie, ek gaan
haar inlig oor wie ek is. Ten minste wil ek met ’n skoon gewete huis toe
gaan.”
“Doen wat jy wil.” Hy haal sy skouers apaties op, maar sit die glas hard op
die koffietafel neer. “Jy bespreek my net nie met haar nie.”
Angela antwoord nie, draai net om, stap na haar kamer en slaan die deur
agter haar toe.
Michael gryp die vol glas voor hom en smyt dit woedend teen haar
kamermuur. Die glas versplinter in fyn stukkies oor die duur mat en sy oë
volg die trae strepe van die drank teen die wit muur.
Sy weet nie waarvan sy praat nie. Sy was nie daar toe haar pa hom die
halfmiljoen aangebied het om uit sy kind se lewe te verdwyn nie. Hy het baie
keer gewens hy het dit net aanvaar, want wat daarna gevolg het, het hom
amper vernietig.
Michael staan stram op en stap na sy kamer. Hy maak sy aktetas oop en
haal ’n verweerde koevert uit. Haar pa het daarop aangedring dat hy die brief
daarin lees nadat hy die geld geweier het. Hy haal die verfrommelde briefie
uit en staar ’n lang ruk daarna. Hy hoef dit nie te lees nie, hy ken elke woord.

Ek sien nie kans om met jou te trou nie en nog minder om jou kind in die
wêreld te bring. Ek is op pad Londen toe vir ’n aborsie. Vergewe my, maar
dis die beste oplossing. Ons agtergronde verskil te veel. Ek sal nooit in ’n
lewe van armoede kan aanpas nie. Moet jou asseblief nie verneder deur my te
kontak nie. Sonika.

Hy haal die diamantringetjie uit die koevert en vou dit in sy vuis toe. Dit lê
koud teen sy vel. In vergelyking met die rots wat sy nou aan haar vinger het,
is dit ’n onbeduidende grootte, maar die simboliek gekoppel aan hierdie ring
is baie gewigtiger. Sy het hom belowe sy sal die ring altyd dra, maar sy het
die belofte nie gestand gedoen nie. Sy het sy vrees bevestig – hy was nie
goed genoeg vir haar nie.
Maar aan die ander kant ... miskien is Angela reg. Miskien het sy nie ’n
keuse gehad nie. Sy was vreeslik jonk en onervare en bitter bang vir haar
ouers. Hulle was onstuitbaar in hul optrede. Dalk het hulle haar gedwing. Hy
het nog nie so daaroor gedink nie. Hy wou nog nooit vir haar verskoning soek
nie, dit mag beteken hy het iewers gefaal.
Hy sak afgemat op die bed neer, sy gesig verberg in sy hande. Vanaand se
wraak is nie soet nie, dit laat ’n nog bitterder smaak in sy mond agter. Hy
wou ná die eerste paar minute van sy wraaktog omdraai. Hy kon aan haar
stywe liggaamshouding en bleek gesig sien hoeveel inspanning dit geverg het
om haar kop regop te hou. Iets diep binne-in hom wou dit nie aanskou nie,
iets wat hy deesdae gereeld moet onderdruk. Daardie onverklaarbare gevoel
het geprotesteer teen die vernedering wat hy veroorsaak het. Sy was
ontstellend mooi vanaand, hy wou haar in alle opsigte as syne opeis. Hy het
die gevoel fel onderdruk en nou is hy uitgemergel van die worsteling in hom.
Hy is moeg vir hierdie verloorspel. Hy wil daardie deel in hom wat smag na
’n bietjie vergifnis en geluk kans gee om daarna te reik, maak nie saak wat
die emosionele prys sal wees wat hy dalk weer sal moet betaal nie.
Twee arms vou om sy skouers en Angela se bekende parfuum omring hom.
“Ek is jammer, ek weet wat jy deurgemaak het. Ek wil nie jou pyn vererger
nie.”
Hy skud sy kop verwese. “Jy is reg, ek moet die verlede begin agterlaat,
maar hoe maak ek vanaand se skade reg? Sy sal my nooit weer naby haar
toelaat nie.”
“Jy kan net probeer. Oorval haar met jou aandag, wys haar hoe jammer jy
is en gebruik die feit dat sy jou prokureur is.”
“En dan? Hoe vertrou ek haar weer? Hoe weet ek sy sal my nie weer
verraai nie?”
“Dis ’n kans wat jy moet waag. Daar is geen waarborge wanneer dit by die
liefde kom nie.”
Tien
Waar Sonika eers benoud was om terug kantoor toe te gaan, word sy
bemoedig deur die ondersteuning van haar vennote en personeel. Van die
oomblik dat sy by die kantoor instap, word koffie vir haar aangedra,
prokureursklerke wil skielik haar werk eerste doen en tiksters baklei om haar
tikwerk te doen. Niemand sê iets oor die leë ringvinger nie.
Sy is vasberade dat Michael se onregverdige optrede geen effek op haar
gaan hê nie. Sy het alle koerante vermy, sy sou nie die dolk self in haar hart
steek nie. Sy jongste gedrag het haar reg bewys – hy straf haar vir iets wat sy
hom klaarblyklik aangedoen het. Wanneer die regte geleentheid daar is, sal sy
hom daaroor konfronteer. Nou moet sy net haar skanse herbou.
Sy sal nie weer onder die aanslag van selfbejammering gaan lê nie. Sy het
deur haar vorige ervaring met Michael geleer dat haar selfbeeld en geluk nie
op die optrede van die mense om haar gebou is nie, net op haar selfkennis en
geloof. Sy kan net hoop hy het sy doel nou bereik en los haar in rus en vrede.
Net ná middagete kom Jennifer en drie tiksters haar kantoor binne, elk met
’n reusagtige bos wit rose.
Sonika kan nie help om verleë te lag nie. Die personeel begin dit ’n bietjie
oordryf as hulle geld op duur blomme mors.
“Dit was nou regtig nie nodig nie.” Die vroue skaterlag oor die vriendelike
betigtiging. Sonika verstom haar oor die vreemde reaksie.
Jennifer lig haar hoogs tevrede in: “Nee, jammer, dis nie ons nie. Ek twyfel
of enigeen van ons sulke geld het om rond te gooi.” Sy bring die meegaande
kaartjie te voorskyn en Sonika neem dit huiwerig.
“’n Aantreklike chauffeur het dit gebring.” Die jongste van die tiksters
verskaf die inligting uitgelate. Almal wag angstig op haar reaksie.
Dis nie vir Sonika ’n ingewikkelde afleiding om te maak nie. Sy lees die
kaartjie en haar vermoede word bevestig met ’n boodskap van Michael
daarop. Daar staan net: “Ek is jammer.”
“Hy het ’n cheek ...” Dieselfde tikster laat glip die opmerking. Sy slaan
geskok haar hand oor haar mond en kyk benoud na Sonika. Sy maak vinnig
verskoning, maar haar woorde verraai hul ingeligtheid oor die naweek se
gebeure.
Sonika reageer nie dadelik nie, staar net na die verskrikte vroue met die
blomme in hul hande. “Ja ... hy het ’n cheek ...” Haar ongekende gemengde
taalgebruik bring ’n gemaklikheid terug in die stemming. “Stuur dit terug met
die bode.”
Die meisies kyk verbaas na mekaar en dan weer na haar.
“Enige boodskap?” vra Jennifer.
Sonika skud haar kop. Jammer gaan nie regmaak wat hy aan haar gedoen
het nie. Hoe dom is hy nie as hy so dink nie en hoe arrogant van hom om dit
te waag. Die blomme wat sy terugstuur, sê genoeg, en sy beplan nie ’n
pynlike ontleding van sy optrede nie. Ten minste een klein oorwinninkie vir
haar.
Sy stuur die meisies uit haar kantoor en probeer op die kontrak voor haar
konsentreer.

Dat Michael nie so maklik met sy jongste speletjie gaan ophou nie, word die
volgende dag duidelik. Ná middagete stap sy die ontvangsarea binne waar
personeellede haar inwag.
Tarien hou ’n groot houer toegedraai in goue geskenkpapier na haar uit.
Sonika voel nie gemaklik daaroor dat haar persoonlike sake so in die ope is
nie, maar die afwagting by die toeskouers laat haar saamspeel. “Die chauffeur
en ’n nuwe geskenk.”
Haar gelate opmerking laat die meisies lag. Sonika maak die houer oop.
“Ingevoerde, handgemaakte sjokolade,” verklaar Tarien. “My pa het laas
jaar sulkes uit Switserland saamgebring. Ek weet vir ’n feit dis glad nie hier
beskikbaar nie. Jou verloofde moes dit spesiaal laat invlieg het.”
Sonika kyk nadenkend na die houer. Het hy nie haar gevoelens genoeg
deur ’n meul gesit nie? Hoekom hou hy nog aan? Wat sit agter sy jongste
optrede? Sy het nie die innerlike krag om dit uit te pluis nie. Sy moet hom net
aanhou ignoreer. Sy is van plan om by daardie voorneme te bly.
“Kry elkeen gerus ’n sjokolade. Tarien, wanneer jy liassering by die hof
gaan doen, lewer die res by sy kantoor af met die boodskap dat dit nie vir my
lekker is nie.”
Tarien glimlag inskiklik, maak die houer oop en deel dit uit aan die gretige
personeel.
Sonika stap na haar kantoor en sak peinsend op haar stoel neer. Sy tik
onrustig met haar vingers op die lessenaar terwyl sy diep sug. Die waarheid is
sy kan hom nie ignoreer nie. Nie ’n uur gaan verby sonder dat sy die gebeure
sedert sy terugkoms herleef nie. Sy ontleed dit van elke hoek en kant en
nêrens kry sy die antwoord wat sy soek nie. Wat wil hy van haar hê? Skuil
daar weer iets sinisters agter sy jongste optrede, of ... kan dit ’n opregte
verskoning wees? wil haar patetiese, uitgelewerde gemoed weet. Maar
hoekom kom sê hy dit nie self nie? Geskenke is nie goed genoeg om vir die
seer te vergoed nie. Hy onderskat haar gruwelik as hy so dink.
Sy sug weer. Sy is so moeg om sy optrede te probeer ontleed. Al wat sy
kan doen, is wag en sien, en skielik is daar baie ure tussen nou en môre.

Die volgende dag kan sy nie help om te lag vir die komiese situasie in die
ontvangsarea nie. Die storie het versprei en die personeel wag bankvas in die
etensuur daar, elk met ’n waterdigte rede vir hul teenwoordigheid. Sonika
stap kopskuddend terug na haar kantoor toe.
’n Halfuur later is die afvaardiging met ’n pakkie in haar kantoor. Sy lees
die teleurstelling op hul gesigte toe sy die pakkie oopmaak en ’n leergebinde
kopie van Elizabeth Barrett Browning se gedigte te voorskyn bring. Sy weet
die simboliek sal hulle ontgaan, hulle het nie die gedeelde herinneringe aan
pieknieks en romantiese gedigte nie. Briesend gooi sy die boek neer. Hy gaan
nou te ver!
Die personeel sluip uit haar kantoor uit. Net die moedige Jennifer bly
staan.
“Moet ek dit terugstuur?” Haar stem is sag en rustig en Sonika bedaar. Sy
oorhandig die boek aan Jennifer.
“Ja. Met ’n boodskap dat sy optrede in swak smaak is.”
Toe die deur agter Jennifer toegaan, sak sy op haar stoel neer. Verdwaas
staar sy deur haar kantoorvenster na buite, maar sien niks raak nie. Wat is
hier aan die gang? Moet sy hom bel en vra? Sy reik na die foon, dan laat sy
haar hand vies sak. Waar kom die belaglike behoefte vandaan om weer sy
stem te hoor? Selfs al is dit net om te baklei. Nee, sy mag nie daaraan toegee
nie. Sy byt op haar onderlip en trek haar skootrekenaar nader. Miskien sal
haar werk genoeg afleiding bied om van hom en sy vreemde gedrag te
vergeet.

Sy het ’n slapelose nag en ’n angstige oggend voor die volgende pakkie


opdaag. Die gewone gehoor is afwesig, maar hierdie keer wag Sonika David
in. Hy stap verleë nader en hou ’n klein houertjie uit.
Sonika maak ongeërg die boksie oop en staar verstom na die
diamantoorkrabbetjies. Die pasmaats van haar verloofring vonkel in die
houertjie. Sy gee dit terug aan die oorblufte David.
“Sê vir hom ek is nie so goedkoop nie.” Sy draai om en laat hom verleë
agter.
Dit blyk die einde van die speletjie te wees, want die week daarna word
niks meer gebring nie. Hy bel haar ook nie. Sy is nie teleurgesteld nie, besluit
sy keer op keer, die krapperige gevoel in haar bors waarmee sy rondloop, het
niks daarmee uit te waai nie.
Net haar vennote het kontak met hom en sy personeel en haar dae word ’n
vervelige verloop van roetine op roetine.
Die vraag of sy hierdie tipe werk vir die res van haar lewe wil doen, steek
ook kop uit. Die bevrediging wat sy ervaar het toe sy die weerloses gehelp
het, vind sy nie in dié papierwerk nie. Haar werklas is egter van so ’n aard dat
sy nie genoeg tyd aan haar groot passie kan afstaan nie, nes sy gevrees het.
Iewers sal sy ’n finale besluit oor haar toekoms moet neem.

Die volgende Vrydag is haar verjaardag. Nou het sy nie ’n probleem met die
geskenke wat sy ontvang nie – ’n leeraktetas van haar vennote, ’n bos geel
rose van die personeel en haar gunstelingparfuum van haar ouers. Sy het
hulle ná die onthaal gebel, maar hul gesprek was ongemaklik. Michael se
naam is nooit genoem nie. Monique se geskenk is ’n geskenkbewys van haar
salon en goue oorkrabbetjies. Selfs Hanro het ’n geskenk gestuur – ’n
klassieke CD van hul gunstelingkunstenaars.
Niks van Michael nie ...
Sy staar na die geskenke op haar tafel en wonder of hy vergeet het en of hy
uiteindelik die boodskap gekry het. Sy onderdruk die ontevredenheid in haar.
Sy is bly hy karring nie meer aan haar nie. Sy blaai deur die dokument voor
haar. Sy het ingestem om middagete saam met die personeel te eet en daar is
baie werk wat voor die ete nog gedoen moet word.
Sy is ’n paar minute laat as gevolg van ’n halsstarrige kliënt op die foon en
almal wag vir haar in ontvangs.
“Jammer, ek was besig met ’n oproep.” Haar verskoning klink onnatuurlik
hard in die stilte en sy kyk verbaas rond. Paul stap nader en hou ’n vreemde
motorsleutel uit.
Dronkgeslaan kyk sy eers na hom en dan na die res. “Het julle vir my ’n
kar gekoop? Omtrent hoog tyd, ek is moeg om met ’n huurmotor rond te ry
terwyl ek wag vir die herstel van my skedonkie.” Haar skertsende opmerking
word met die verwagte gelag begroet.
“Nie ons nie.” Sy volg Tarien se betekenisvolle blik na die oop
ontvangsdeure.
Voor die deur staan haar droommotor, die jongste Mercedes-sportmotor.
Sy knip haar oë om seker te maak sy verbeel haar nie en kyk dan vraend na
Tarien.
“Die chauffeur en sy geskenk,” deel Tarien haar huiwerig mee.
Sonika stap traag vorentoe. Ongelowig steek sy haar hand uit asof dit ’n
illusie is wat enige oomblik gaan verdwyn. Haar hand gly strelend oor die
motor se swart lyne en sy besef dis nie haar verbeelding nie. Sy hoor
vaagweg die ander se ekstatiese aanmerkings.
“Jy gaan dit seker nie terugstuur nie.” Tarien se hoopvolle stemmetjie
dring stadig tot haar deurmekaar verstand deur.
Sy sê niks, hou net haar hand vir die sleutel uit. Paul oorhandig dit en
almal se aandag is weer op haar gevestig.
“Kan ons die ete tot Maandag uitstel?” Sy wag nie vir die antwoord nie,
sluit net die motordeur oop en klim in.
Sy oortree die spoedgrens en is binne ’n paar minute by sy kantoor. Sy
sekretaresses kyk verbaas op toe sy instorm.
“Doktor Meskin is in ’n vergadering. U kan hom nie nou spreek nie.”
Sonika skuur verby die protesterende sekretaresse wat beskermend voor sy
deur gaan staan. Die ander twee sekretaresses slaan die vreemde gebeure
nuuskierig gade.
Vasbeslote maak sy die deur oop met die sekretaresse kort op haar hakke.
Die vier mans kyk gesteurd op.
Sonika stap tot by Michael se lessenaar, sy ignoreer die ander mans.
“Ek wil met jou praat.” Haar houding daag hom uit om te weier.
“Doktor Meskin, ek is vreeslik jammer. Ek het haar probeer keer.” Sonika
steur haar nie aan die vernietigende blik wat die sekretaresse in haar rigting
stuur nie. Haar aandag is op ’n geamuseerde Michael gerig.
“Dis reg, Juffrou. Ek sal dit hanteer.” Michael kyk na die drie verdwaasde
mans. “Menere, sal u ons vir ’n paar minute verskoon?”
Sonika kyk hoe hulle uitstap voor sy weer na Michael draai. Hy lê
gemaklik agteroor op sy leerstoel met sy hande agter sy kop gevou en lyk
steeds geamuseerd.
“As ek geweet het dit vat ’n kar om jou hier te kry, dan koop ek elke dag
vir jou een.”
“Ek weet nie wat jy deur hierdie siek grappe probeer bereik nie, maar ek is
moeg hiervoor.” Sy gooi die motorsleutels op die lessenaar.
Hy kyk rustig na haar. “As my geheue my nie in die steek gelaat het nie, is
dit jou verjaardag. Van wanneer af mag ek nie vir my verloofde ’n geskenk
koop nie? Ek sou dit nie noodwendig as ’n siek grap beskou nie.”
“Jy weet die verlowing is ’n klug. En dis nie net die een geskenk nie, dis al
daardie ander belaglike geskenke. En ek kan my eie motor koop. Ek het
niemand se hulp nodig nie.”
“Bedaar, Sonika, jy oorreageer.” Sy paternalistiese houding ontstig Sonika
verder. Sy verloor haar humeur. Sy stap om die lessenaar en plant haar voor
hom met haar hande in haar sye. Hy swaai rustig sy stoel in haar rigting.
“Wat probeer jy hierdeur bereik? Het jy nie genoeg opwinding in jou lewe
sonder dat jy kinderagtige speletjies moet speel nie?”
“Niks in my lewe is so opwindend soos jy nie.”
Sy ernstige woorde neem die wind uit haar seile en sy kan hom net oorbluf
aanstaar, dan sê sy: “Ja, so opwindend dat jy my met die verlowing
geïgnoreer het en jou harem om jou vergader het.” Sy is onmiddellik spyt oor
dié bekentenis. Hy mag nie weet hy het haar seergemaak nie.
Michael lyk nou ongemaklik en vou sy arms. “Dit was ’n fout. Ek het gesê
ek is jammer. Ons kan daaroor praat ...”
Sy onderbreek vinnig sy gedwonge bekentenis. Die onderwerp is nie nou
op haar agenda nie en verder vertrou sy nog minder sy nuwe welwillendheid.
“Die hele situasie is ’n fout en ek wil nie nou daaroor praat nie. Al wat ek wil
sê, is dat jy jou motor moet hou en ophou om my die middelpunt van die
aandag by my werkplek te maak.”
Michael frons ergerlik. “Sonika, wees realisties. Jy kan nie in daardie
Golfie rondry terwyl ons verloof is nie. Die media sal ’n groot gedoente maak
van my verloofde en haar ou karretjie in vergelyking met die duur motors wat
ek besit. Ek sal as ’n vrek aangesien word. Leen die motor tot alles verby is
en dan kan jy die ring en die kar vir my teruggee.”
Sonika oordink sy woorde in ’n poging om agter sy bymotiewe te kom. Sy
redenasie maak sin, maar sy is nie gemaklik daarmee om die motor selfs net
tydelik te gebruik nie. Sy glo nie hy weet dat haar motor nog wag vir
herstelwerk nie. Aan die ander kant, hoekom kan sy nie die situasie ’n bietjie
misbruik deur sy motor te leen nie? oortuig haar selfsugtige kant haar. Hy
skuld haar. Sy was sover net die verloorder en om vir ’n kort rukkie in haar
droommotor rond te ry, mag ’n bietjie daarvoor vergoed. “Net vir die tydperk
van die verlowing. En in die vorm van ’n saketransaksie, ek betaal vir die
gebruik teen standaardtariewe.”
“Net vir die spesifieke tydperk en jy kan die finansiële voorwaardes
bepaal.” Michael bevestig glimlaggend haar voorstel. “Ek behoort daarna een
van my haremlede te oortuig om die motor as geskenk te aanvaar.”
Sy skertsende woorde laat haar verwoed wegdraai. Voor sy buite bereik
beweeg, gryp hy haar vinnig aan die arm en trek haar op sy skoot.
Sy val ongemaklik, haar rug teen sy bors en haar bene onvroulik voor haar
uitgestrek. Haar poging om weer op haar voete te kom, slaag nie. Hy kry haar
aan haar skouers beet en draai haar om. Hy ignoreer haar spartelende
bewegings.
Ná ’n paar minute gee Sonika die stryd gewonne, maar gluur hom aan. Sy
dwing haarself om rustig te word in ’n poging om hom onkant te betrap, want
sy besef sy kan nie ’n fisieke stryd wen nie. Haar hele lyf is in intieme kontak
met syne en pleks van beheerstheid, groei ’n welbekende sensasie in haar
liggaam.
“Los my, asseblief!” Hy verstewig sy greep met haar sagte versoek en skud
sy kop. Sy oë beweeg na haar lippe.
“Ek het jou nog nie behoorlik gelukgewens met jou verjaardag nie.” Sy
voel sy asem sag oor haar wang beweeg. Sy staar na die sensuele bewegings
van sy lippe naby haar en sy hart klop vinnig onder haar remmende hande.
Sy kop beweeg nader en sy ontmoet sy lippe gedwee. Daar is geen sprake
van gelukwensing in die aard van die soen nie. Sy skuif uit haar ongerieflike
posisie sodat sy gemakliker teen hom aanleun. Haar hande beweeg geleidelik
oor sy skouers en vou om sy nek. Haar toegewende optrede oortuig hom om
sy houvas op haar effens te verslap. Hy vou sy hand om haar kop en sy
vingers gly deur haar hare terwyl sy lippe koesterend oor haar wang en toe oë
beweeg.
Sy lippe verskuif weer om hare oop te dwing. Sy beantwoord sy passie met
volle oorgawe. Die enigste seker gedagte waartoe sy in sy omhelsing in staat
is, is dat sy nooit genoeg van hom sal kry nie.
Die foon op die lessenaar begin lui. Michael stoot haar effens weg en reik
teësinnig daarna. ’n Gefrustreerde uitdrukking vertrek sy gesig terwyl hy
luister. “Dankie, Juffrou, jy kan my oor vyf minute deurskakel.”
Sy kyk verward na hom.
“’n Konferensieoproep van Londen waarop ons wag.” Sy verduideliking
dring stadig tot Sonika se wollerige verstand deur en dan besef sy waar sy is.
Sy druk ru teen hom om op haar voete te kom.
Michael keer haar voor sy wegbeweeg. Hy hou die motorsleutel na haar
uit. Sy vermy sy oë en rem om los te kom.
“Sonika!” Sy stem is hard. “Kyk na my.”
Sy kyk vlugtig in sy oë voor sy weer wegkyk. Sy kan nie glo wat sy nou
weer aangevang het nie en wil so gou moontlik wegkom om nabetragting oor
haar roekelose optrede te hou.
“Ons moet praat. Ek kom haal jou seweuur, ons kan iewers gaan eet. Sal jy
saamgaan?”
Sy knik teësinnig. Sy sal nou tot enigiets instem, net om te kan wegkom.
Sy gryp die sleutel voor sy vlug.
“En sit jou ring aan.” Sy laaste opdrag vergesel haar by die deur uit.

Sonika besef sy gaan ’n pad op haar mat deurloop, maar sy kan nie die
senuagtige beweging stop nie. Haar vuiste is styf gebal en haar gedagtes
troebel, en niks wat sy doen, laat haar ontspan nie. Sy verwag Michael binne
die volgende paar minute en vrees bou in haar op met elke minuut wat die
horlosie aftik. Sy was dom om tot die afspraak toe te stem. Wat het geword
van haar voorneme om hom te vermy? Sy kan niks behalwe meer seerkry
hierdeur bereik nie. Is sy ’n masochis? Hoeveel maal moet sy nog seerkry
voor sy uit haar foute leer?
Die ware rede hoekom sy ja sê, tref haar toe hy met sy onweerstaanbare
glimlag voor haar staan. Die waarheid lê in haar dringende verlange om die
aand saam Michael deur te bring. ’n Verjaardaggeskenk aan haarself, en vir
’n paar uur gaan sy net sy teenwoordigheid geniet en die gevolge van haar
dom besluit vergeet. Sy wil glo sy verdien die bietjie geluk in die vaalheid
wat haar liefdeslewe tot nou toe kenmerk.
Hy buk af en soen haar op haar voorkop, dan kyk hy bewonderend na haar
vrolik geblomde rok. ”Jy lyk so vroulik,” komplimenteer hy haar en asem
dan haar ligte blommegeurparfuum in. “En ek hou van jou nuwe parfuum.”
Sy voel hoe vergete opwinding en vreugde deur haar spoel. Sy kyk tergend
na hom. “Vroulik? Probeer jy dalk sê ek is nooit andersins vroulik nie?”
Hy speel saam. “Daar skort niks met jou vroulikheid nie, maar jy is geneig
om dit agter professionaliteit te verskuil. Ek voel soms geïntimideer in jou
teenwoordigheid.”
Sy opmerking skok haar nie, sy het die aantyging vele kere al gehoor. Sy
weet sy gebruik haar formele houding as skans om mense op ’n afstand te
hou.
“Jy geïntimideer deur my?”
’n Ernstige lig verskyn in sy oë. “Ja, verbasend soos dit vir jou mag klink.”
Hy gee haar nie kans om uit te vra nie en vat haar hand. “Kom, die aand wag
en ek is nie van plan om een oomblik daarvan te mors nie.”
Hulle stap na sy motor waar die chauffeur die deur hoflik vir hulle oophou.
“Jy stel my teleur,” sê sy onnutsig toe hy langs haar plaasneem. Hy kyk
verbaas na haar. “Ek het gehoop jy daag in jou sportmotor op. As jy jou
geskenk vir my in ag neem, behoort jy ook ingelig te wees oor my passie vir
sportmotors. Wie was in elk geval jou informant?”
Hy lag terwyl hy haar linkerhand in syne neem. Hy kyk tevrede na die
diamantring aan haar vinger. “Monique het my ingelig oor jou droommotor
en jou liefde vir sportmotors en daarom het ek vanaand op hierdie motor
besluit, ek hou nie van kompetisie nie. Ek gaan vanaand jou enigste passie
wees.”
Sonika staar hom oorbluf aan. Versigtig, Sonika, vermaan sy haarself.
Moenie meer in sy woorde lees as wat bedoel word nie. Die kans is goed dat
jy weer vir die gek gehou word.
Sy probeer subtiel haar bewerige hand uit sy greep trek, maar hy hou dit
gevange en sy kan nie die uitdaging in sy oë miskyk nie. Sy kom gou tot ’n
finale beslissing – sy moet aanvaar dat sy ook nie vanaand aan sy betowering
gaan ontsnap nie, maak nie saak hoe intens die kastyding en pyn later nie.
Oorwonne steek sy haar hand uit, vryf oor sy wang en volg dan die
bekende paadjie na sy welgevormde lippe. Die aanloklike reuk van sy
naskeermiddel gemeng met dié van die duur leer laat haar kop draai.
“En wat is jou passie?” wil sy skalks weet.
“As jy vanaand gaaf met my is, dan vertel ek jou later.” Hy vou sy hand
om die tergende vingers en byt dit speels.
Sonika ruk haar hand weg en vou dit veilig op haar skoot. “Definieer
gaaf?” Sy kyk met opgetrekte wenkbroue na hom.
Michael sit agteroor en glimlag. “Gaaf is om nie heeltyd my kop af te byt
nie, gaaf is nie kil en koud nie, en gaaf is net om die aand sonder enige
voorbehoud te geniet.”
“Dieselfde geld jou,” lig sy hom treiterend in.
“Absoluut,” gee hy vinnig toe. Hy hou haar stip dop. “Sal ons dit met ’n
handdruk beklink?” Hy steek sy hand uit en vou dit oor hare. Voor sy kan
keer, bring hy dit na sy lippe en streel oor haar pols.
Sy kyk benoud na hom. Sy wonder of hy kan voel hoe onreëlmatig haar
polsslag is en wonder of hy ook weet dat as sy nie die arrogante Michael kan
weerstaan nie, hoe op aarde kan sy hoop om teen die sjarmante een te baklei?
“Doktor Meskin, ons is hier.” David se woorde bring vir Sonika tydelike
verligting. Sy moet die tyd benut om weer logies te dink, maar sy kry nie juis
kans daarvoor nie. Die oomblik toe hy haar in die deftige restaurant galant in
haar stoel help, sit hy die genotvolle aanval voort. Sy is versigtig en drink net
een glasie van die sjampanje, maar sy het geen alkohol nodig om haar
verstand te benewel nie, die onweerstaanbare Michael is genoeg.
Hy speel ’n sensuele spel met haar en sy word gewillig meegesleur. Sy
sien weer die ou Michael in hom wat haar voete onder haar uitgeslaan het.
Nou is hy meer gesofistikeerd en ervare, en hierdie eienskappe maak hom
nog aantrekliker. Hulle trap versigtig om persoonlike aangeleenthede. Een of
ander tyd sal hulle oor die verlede en die afgelope gebeure moet praat, besef
Sonika, maar sy het nie die moed om die saak eerste aan te roer nie.
Michael gebruik enige verskoning om aan Sonika te raak, en sy protesteer
nie. Ná die hoofgereg sit hy weer sy arm op die agterkant van haar stoel en
streel met sy hand oor haar kaal rug. Hoendervleis roer oor haar hele liggaam
en sy kan nie ’n verleë glimlaggie onderdruk nie. Monique sal die prentjie na
behore waardeer, veral ná Sonika se lomp verskonings oor die tekorte in die
fisieke verhouding tussen haar en Hanro. Sy was naïef as sy gedink het ’n
huwelik met hom sou kon werk sonder daardie basiese element van erotiese
aantrekkingskrag.
“Vertel my wat jy dink?” Michael se sagte versoek maak haar ongemaklik.
Sy slaan haar oë skuldig neer. Haar verhouding met Hanro is nie ’n veilige
onderwerp om nou te bespreek nie.
Sy skud haar kop. “’n Vrou moet haar geheime hê.”
“Ek sal myne vertel as jy dieselfde doen,” terg hy. Sy skud weer haar kop
en speel verbouereerd met die glas in haar hand. Sal hulle ooit geheime aan
mekaar kan toevertrou sonder om dodelike wonde toe te dien? Watter
verskoning is daar dat hy geld by haar pa geneem het? Sy stoot die gedagte
vinnig weg. Niks gaan afbreuk aan vanaand doen nie.
Michael vroetel in sy baadjiesak en bring ’n bekende houertjie te voorskyn.
Sy neem dit aarselend en kyk vraend na hom.
“Maak dit oop. Dis jou verjaardaggeskenk. Aangesien jy my motor
verwerp het, hoop ek jy gaan dié aanvaar. Jy doen my selfbeeld baie skade.”
Die diamantoorkrabbetjies van die vorige week blink in die houertjie. Sy
skud haar kop. “Ek kan nie. Dis te duur.” Haar protes val op dowe ore.
“Ek dag dis te goedkoop,” terg hy verder. “Jy kan dankbaar wees dis nie
die dooie rose of die halfgeëete sjokolade nie. Mag ek dit vir jou aansit?” Hy
wag nie vir haar toestemming nie, reik oor en vervang haar
pêreloorkrabbetjies daarmee.
“Dankie, dis ’n wonderlike geskenk.” Haar stem is sag, haar gemoed vol.
Sy leun oor en gee hom ’n piksoentjie.
Voor sy kan wegbeweeg, vou hy sy regterhand om haar kop en trek haar
weer nader. “Dit verdien beter as daardie susterlike soentjie.” Sy lippe rus op
hare.
Vir ’n kort rukkie vergeet sy van die mense om hulle, geniet sy net sy
teenwoordigheid, die warmte van sy lippe, die streling van sy hand deur haar
hare.
Stadig lig hy sy kop op. Sy oë is ’n donkerblou. “Wil jy nagereg hê?” Sy
stem is heserig.
Sy knik. Wat ’n vraag! Sy kan hóm stukkie vir stukkie opeet en sy sal
nooit genoeg kry nie.
Die kelner oorhandig die spyskaart. Sy kies ’n sjokolademousse, hy
konjak.
“Ek vlieg môre Kaapstad toe, ek wil ’n woonstel daar koop. Ek het
gewonder of jy dalk wil saamkom.”
Sy sug teleurgesteld. “O, ek wens ek kon. Ek was lanklaas daar.”
“Jy het lank daar gebly. Was jy gelukkig daar?”
Sy knik.
“Vertel my.” Sy stem is sag, uitnodigend.
Sy huiwer. Die herinneringe is gevaarlik aan hul verlede gekoppel en daar
is sekere aspekte wat sy nie gereed is om vir hom te vertel nie. Dit sal hom ’n
mag oor haar gee wat sy nie kan bekostig nie. Sy begin die verhaal by die
vrou op die strand, dit wat die voorval voorafgegaan het, hou sy nog haar
geheim.
Hy luister sonder om haar te onderbreek.
“Dis hoekom ek so ’n beheptheid met gelyke regte vir vroue het, en
vandaar my standpunte onder meer oor verloofringe en vanne. Dit kan
miskien as ’n futiele gebaar beskou word, maar dis ’n klein boodskappie wat
ek wil uitstuur dat vroue onderdrukking nie net as normaal moet aanvaar
nie.”
“Ek is trots op jou.” Hy vryf saggies met sy kneukels oor haar wang en
genoegdoening sprei warm deur haar lyf.
“So wat doen jy môre, kan jy saamkom?”
“Ek wens ek kon, maar dis my ouers se veertigste huweliksherdenking en
hulle het ’n paar mense oorgenooi.”
“En jou verloofde is seker nie by die uitnodiging ingesluit nie.” Sy stelling
is emosieloos, maar sy kan die teleurstelling in sy oë sien. Wat verwag hy?
Dat haar ouers, soos sy, van die verlede vergeet?
Skielik is die intieme atmosfeer weg en sy sit regop. “Ongelukkig nie.”
Hy frons. “Sonika, ons moet ...”
Sy sit haar vingers teen sy lippe. Sy weet wat hy wil bespreek. “Dis laat, ek
moet huis toe.” Die verlede bring ’n afstand tussen hulle, maar nou is nie die
regte oomblik om dit te probeer oorbrug nie. Sy wil die wonderlike aand in
haar gedagtes koester, later soos ’n kosbaarheid uithaal en vertroetel. Dis dalk
een van die laastes saam met hom.
Op pad na haar huis is albei stil. Michael vergesel haar tot by haar deur. Sy
nooi hom nie in nie, gee hom net ’n piksoen en sluit die deur agter haar.

Laatoggend, ná ’n slapelose nag, ry Sonika Pretoria toe. Haar ouers se


verwelkoming is warmer as die vorige kere. Soos sy verwag het, word
Michael nie genoem nie en hulle gesels oor ditjies en datjies terwyl hulle die
finale voorbereidings vir die geselligheid tref.
Sy is besig om haar aandrok aan te trek toe haar selfoon lui. Sy is effens
spyt dat dit Monique is, sy het gehoop Michael sal haar weer bel, net om te
vergoed vir die ongemaklike einde van die vorige aand. Maar dan, redeneer
sy, miskien pla dit hom nie soos vir haar nie. Sy kan egter aan niks anders
dink nie.
“Waar is jy?”
“By my ouers, dis hul huweliksherdenking.”
“O ja, jy het dit genoem. Hoe was jou ete gisteraand?”
“Heerlik. Wat doen jy?”
“Ek is by Theo, ek het hom vanoggend op die lughawe gaan haal ...”
Monique huiwer en Sonika klem die borsel in haar hand stywer vas. Sy
ken haar vriendin te goed. Waarom is sy so formeel? Gewoonlik sou sy
lankal alles van die ete wou weet. Wat wil sy regtig sê?
“En?”
“Ons het Michael daar gesien.”
Sonika frons. “Ja, hy is Kaapstad toe om ’n woonstel te koop.”
Monique sug moedeloos. “Hy was nie alleen nie, daardie Jessica-vroumens
was saam met hom. Ek wil nie hê jy moet te veel daarin lees nie, miskien was
dit toevallig dat hulle op dieselfde vlug was en langs mekaar gesit het,
maar ... net sodat jy weet. Ná die gemors by jou verlowing, verdien jy nie nog
surprises nie.”
Sonika val neer op haar bed. Sy maak keelskoon en probeer ongeërg klink.
“Jy weet ons is nie regtig verloof nie, hy kan kuier by wie hy wil.”
“Ek weet en ek het gehoop hy is meer diskreet, maar lyk my nie so nie.”
Sonika sluit haar oë en druk haar koue vingers teen haar voorkop. “Lyk my
ook nie so nie. Ek moet klaar maak, jy weet hoe my ma oor tyd is. Ons praat
later weer.” Sy skakel die foon af en leun agteroor teen die kussing. Hoekom
doen hy dit? Hy vra haar om hom te vergesel, en as sy nee sê, dan beweeg hy
aan na die volgende beskikbare meisie. Het sy dan te veel in sy optrede
gisteraand gelees? Was dit weer eens net haar eie droom wat die eerste
wankelerige tree na iets nuuts gesien het? Dom, dom, dom. Dis wat sy is! Hy
speel met haar gevoelens, en sy is die idioot wat dit toelaat. Wel, so ver en
nie verder nie. So uitgelewer is sy nie.
Sy maak seker die gaste kom haar gemoedstoestand nie agter nie. Sy
ontwyk die vrae oor Michael en is dankbaar toe sy die laaste van die gaste
saam met haar ouers kan groet. Sy slaap sleg en vroeg die volgende oggend
groet sy haar ouers met die verskoning dat daar dringende werk is wat by
haar huis wag.
Van die rit na Johannesburg onthou sy nie veel nie. Snaaks genoeg is sy
nie eens verbaas toe sy Michael se Lamborghini voor die sekuriteitshekke
sien nie. Hy is geklee in swart jeans en ’n swart langmouhemp, sy gespierde
voorarms steek onder die opgerolde hempsmoue uit en sy aantreklike
voorkoms maak haar mond droog. Met gevoude arms leun hy teen sy
sportmotor en selfs met sy oë verskuil agter sy sonbril, kan sy sien hy lyk nie
gelukkig nie. Seker sy skuldige gewete wat hom pla. Sy klim uit en stap hom
kalm tegemoet. Gelukkig kan hy nie die bewing in haar binneste sien nie.
Hy kom regop. “Hoekom antwoord jy nie jou selfoon nie? Ek probeer jou
sedert gisteraand in die hande kry en ek wag nou al ’n uur hier vir jou. ”
Sy haal haar skouers op en staar hom uitdrukkingloos aan. “Ek was besig.
Wat is so dringend?”
Hy frons verward. “Hoekom is jy so kil? Ek het gedink ná Vrydagaand kan
ek en jy ...”
Sy val hom in die rede. Hoe vinniger hulle by die punt uitkom hoe
makliker vir haar. Sy teenwoordigheid maak haar angstig, sy kan nie baie
langer die front voorhou nie. “Hoe was jou uitstappie na Kaapstad? Het
Jessica dit ook geniet?”
Hy steek sy hande in sy broeksakke, en sy kan deur sy donkerbril sien sy
oë is op skrefies getrek soos hy haar ondersoekend aanstaar. “So, Monique
het jou ingelig, ek moes dit verwag het. Voor jy verkeerde afleidings wil
maak, Jessica is ’n eiendomsagent. Haar kollega in Kaapstad het woonstelle
beskikbaar en sy het my van haar gesê. Sy is saam omdat sy deel is van die
onderhandelings en daarom op kommissie geregtig is. En al het jy
saamgegaan, sou sy ons steeds vergesel het, want dis net besigheid. Dink jy
regtig ek is so onsensitief om gelyktydig met twee vroue ’n verhouding te
hê?”
Sy haal haar skouers op en fokus haar verwarde aandag op die breë bande
van sy sportmotor. Enigiets anders as om na hom te kyk en te voel hoe haar
weerstand verkrummel. “Dit maak seker nie saak wat ek dink nie. Onthou,
ons het nie ’n verhouding nie, ons skep ’n illusie. Jy mag al die vroue op
aarde om jou vergader, niemand kan jou keer nie. Het jy dit nie met ons
verlowingsgeselligheid gewys nie?”
“En ek het gesê ek is jammer daaroor. Wat moet ek meer doen?” Hy klink
moedeloos.
Sy moet die woorde forseer, want haar hart stem nie saam nie. “Niks,
absoluut niks. Dit maak nie meer saak nie, maak lankal nie meer saak nie.
Kom ons bepaal ons by ons werkverhouding. Daar sal nooit meer as dit kan
wees nie. Wat in die verlede gebeur het, sal altyd tussen ons staan. Ek moet
ry, ek het werk wat by die huis wag.” Haar stem klink afgetrokke, maar in
haar woed ’n storm. Die pyn wat agtergelaat word, is bekend. Het sy dit nie
jare gelede ervaar nie?
Hy kry haar aan die skouers beet en sy kan sy blik nie langer vermy nie.
Selfs van agter die donkerbril skroei dit haar. “Dis wat jy dink! Ons gaan
hierdie ding tussen ons uitpraat, of jy wil of nie. Ek sal jou egter kans gee om
jou kop skoon te kry. Geniet jou dag verder.”
Lank nadat hy weggejaag het, weerklink sy vasberade woorde in haar kop.
Sy aanvaar sy verduideliking. Die probleem is sy kan hom nie vertrou nie en
juis daarom moet sy haar van hom losmaak. As dit nie Jessica is nie, sal dit
iemand of iets anders wees wat hom van haar sal wegneem. Sy sal nie toelaat
dat die geskiedenis hom herhaal nie.
Elf
“Sonika, sal jy asseblief net deur hierdie ooreenkoms gaan? Ek is nie
gelukkig met artikel drie en sewe nie.” Paul oorhandig die kontrak aan haar.
“Ek wil graag jou mening daaroor hê.”
“Ek maak so, ek wil net eers deur hierdie dagvaarding werk wat Tarien vir
my voorberei het.” Sonika vryf haar oë.
“Jy lyk moeg, besige naweek gehad?” Paul maak hom gemaklik op een
van haar kantoorstoele en kyk besorg na haar.
Sy knik. Meer as net besig, deurmekaar en uitputtend is eerder die woorde.
Sy voel asof ’n trein haar getrap het, maar sy kan hom nie die waarheid vertel
nie.
“Nogal. Ek het gister heeldag aan ’n maatskappyprospektus gewerk. Die
kliënt kom my vieruur spreek. Wat is jou planne vir die week?”
“Hierdie week is ’n bietjie rustiger as laas week, net ’n paar vergaderings
by die Meskin-kantoor, niks uitstedig nie. En jy?”
“Hier is ’n vreemde ontwikkeling. Graeme se sekretaresse het vanoggend
’n hele skedule deurgestuur met konsultasies wat ek moet bywoon. Ek
verstaan dit nie aangesien hulle nog heeltyd deur jou werk.” Sy sit vorentoe
en hou die dokument na hom uit. “Ek wou dit nog met jou bespreek, kan jy
dit nie bywoon nie?” Sy kyk angstig na hom. Sy vermoed Michael sit
hieragter en hy moet dit nie vir haar moeiliker maak nie, sy sal dit nie toelaat
nie.
Paul lees deur die lys. Hy skud sy kop. “Nie regtig nie, jy en Kobus is die
spesialiste in dié areas en Kobus is heelweek saam met Graeme in Londen.
Ek sal jou nie hieruit kan red nie.”
Sonika sak gebelg terug op haar stoel. Paul hou haar bekommerd dop.
“Regtig, Sonika, ek wil nie ’n groot ding hiervan maak nie, maar ’n mens sou
hoop teen hierdie tyd weet julle waar julle met mekaar staan. Hoe kan dit
steeds so ’n groot probleem wees om in sy teenwoordigheid te wees? Wat
van net professioneel optree?”
Sonika sug diep en staar by die venster uit. Sy het nie Paul se betigtiging
nodig nie. Sy is nou net so verward en onseker soos ná Michael se
verdwyning. Sy was in beheer van haar lewe voor sy koms en nou maak niks
meer sin nie. Haar drome het soos seesand deur haar vingers gegly, min
daarvan het behoue gebly. Sy moet haar toekomsplanne opnuut in oënskou
neem.
Paul is reg, sy het Michael ingelig hoe sake staan en dis seker belaglik om
langer sy teenwoordigheid soos ’n verbouereerde diertjie te probeer vermy.
Hy kan haar nie nog verder seermaak nie, kan hy? Haar hart het nou genoeg
slae gekry, dis tyd om finaal te aanvaar dat Michael deel van die verlede is.
Sy word yskoud toe die implikasie van dié gedagte haar tref. Sy probeer dit
wegstoot, maar haar integriteit wil dit nie toelaat nie. Sy moet begin eerlik
wees met haarself. Ja sy is nog lief vir hom, en hoe onverklaarbaar dit ook al
mag klink, kan sy dit nie meer ontken nie. Hoe kan sy nog lief wees vir
iemand wat haar so seergemaak het? Sy verstaan dit nie. En die ander harde
realiteit is dat net meisietjies oor sprokies met gelukkige eindes droom. Sy is
volwasse genoeg om te weet dat die werklikheid min van ’n sprokie inhou.
Dit het sy in haar werk en in haar eie lewe ervaar en daarom moet sy op die
hede fokus tot sy sekerheid het oor wat voorlê.
Haar aandeel in hierdie affêre is besig om op ’n end te kom en sy wil
terugkeer na haar werk onder vroue. Ten minste kan sy daar ’n bydrae lewer
wat haar emosioneel kan voed.
“Beplan jy nog om jou vennootskap op te sê?”
Sonika kyk verbaas na Paul. Het hy haar gedagtes gelees, of het sy hardop
gedink?
Sy dink voor sy hom antwoord. “Ja, ongelukkig moet ek deurdruk met
hierdie besluit. Ek wil nie vir Michael se maatskappy werk nie en ek het die
laaste ruk weer besef die korporatiewe stryd is nie vir my nie, ek wil graag
weer ’n sosiale bydrae lewer. Jy weet dit het nog nooit vir my net om geld
gegaan nie. Heel moontlik weer in Kaapstad, ek besluit nog.”
“Ek is regtig jammer hieroor.” Paul lyk teleurgesteld. “As ek geweet het
ons gaan jou verloor, sou ek nooit aangedring het op sy besigheid nie.”
Sonika glimlag hartseer. “Dis ’n pad wat ek moes stap, anders het ek baie
foute gemaak. Soos om onder meer met Hanro te trou, dit sou nooit gewerk
het nie.”
“Ek hoop jy heroorweeg jou besluit, maar ongelukkig ken ek jou te goed.
As jy in ’n rigting begin beweeg, is daar nie plek vir afwyk nie.”
“Ek glo ook nie ek sal van plan verander nie. Ek wil voorstel dat julle na ’n
ander vennoot begin soek.”
Paul staan op, moedeloosheid duidelik in elk van sy stadige bewegings.
“Ons bespreek dit sodra Kobus terug is. Ten minste het die Prokureursorde
die klagte teen jou voor enige amptelike ondersoek verwerp. Iets waaroor ons
kan dankbaar wees.”
Sonika glimlag, maar antwoord nie. Sy kyk Paul agterna voor sy weer
terugdraai na die venster en na die grouheid buite staar. Herfs kruip nader. Sy
leun mismoedig teen die vensterbank. Sy sien nie uit na die winter en die
alleenwees wat dit gaan bring nie. Sy wens sy het meer gehad om oor
dankbaar te wees, haar terneergedruktheid laat nie plek vir dankbaarheid nie.
Met ’n diep sug tel sy haar selfoon op, soek deur die kontaklys tot sy die
Vroueregskliniek se telefoonnommer kry en skakel dit. Nou is ’n goeie tyd
om nuwe rigting aan haar toekoms te gee, en die oplossing lê hopelik by haar
vorige werkgewer.

Sonika kyk gesteurd op na die persoon wat skielik in haar kantoordeur


verskyn. Verbaas kyk sy na Angela, keurig geklee in ’n broek en baadjie, wat
in haar deur staan. Sy staan vinnig op.
Angela stap huiwerig nader. “Sonika, jammer om ongenooi hier op te
daag. Daar was niemand by ontvangs nie en die skoonmaker het my hierheen
beduie. Ek weet dis jou etenstyd, maar mag ek gou met jou praat?”
Sprakeloos beduie Sonika na ’n stoel. Sy het van Angela vergeet. Hy kon
Jessica miskien afmaak as net ’n sakekennis, maar wat van Angela? Sy sug
moedeloos. Dis veronderstel om nie meer saak te maak nie, het sy dit nie vir
hom gesê nie? En wanneer gaan sy dit ook begin glo? Definitief nie ná
vanoggend se ontdekking nie.
“Wat kan ek vir jou doen?” Ondanks haar gedagtes bly sy vriendelik.
Angela staar ’n oomblik verbouereerd na Sonika, dan trek sy haar skouers
vasbeslote terug asof sy ’n belangrike besluit geneem het. “Ek wil met jou
oor Michael praat.”
Sonika skuif ongemaklik in haar stoel rond, maar antwoord nie.
“Ek weet nie of jy enige afleidings ná die verlowingsgeselligheid gemaak
het nie, maar ek wil net vir jou sê ek is Michael se pa se suster.”
Daar is openlike verbasing op Sonika se gesig. “Maar ... Michael ...” Sy
val oor haar gedagtes. Nou maak haar aanvanklike bekendheid sin, dit was
die familietrekke tussen haar en Michael wat haar opgeval het. “Hy het my
nooit van jou vertel nie.”
Angela gaan nou meer selfversekerd voort. “Ja, ons het mekaar eers ná
julle episode ontmoet. Om die waarheid te sê, min mense hier weet van my.
Ek was vyf toe Michael gebore is. Jy weet seker my ouers wou nooit aanvaar
dat hy met Elise getrou het nie?”
Sonika knik.
Angela gaan voort. “Ek het ná hul dood van Michael se bestaan gehoor. Ek
het op korrespondensie tussen my ouers en hul prokureur afgekom. Hulle
wou weet of Elise enige finansiële eise teen hulle kon instel, wat sy in elk
geval nooit oorweeg het nie. Ek het Elise en Michael begin soek, hulle was in
daardie stadium my enigste oorlewende familie. Ek het Michael in Angola
opgespoor waar hy in ’n diamantmyn wou belê. My ouers was skatryk en ek
het alles geërf. Ek het hom oortuig om sy deel van die erfporsie te neem wat
my ouers hom ontneem het. Die res is algemene kennis. Hy het my nou
genooi om hom te kom help om sy nuwe huis in te rig, jy weet dalk hy het die
naweek ingetrek.”
“Hoekom vertel jy dit vir my?”
“Ek wil graag hê ons moet vriende wees. Ons speel albei ’n belangrike rol
in Michael se lewe. Hy is die broer wat ek nooit geken het nie.”
“Ek glo nie my rol as sy prokureur kan aan joune gelykgestel word nie.”
Angela lag. “Sonika, jy bluf niemand nie. Ek ken Michael net so goed soos
jy en ek weet jy is meer as net sy prokureur.”
“Was miskien, maar dinge het baie verander.”
“Sekere dinge het dalk verander, maar ander bly dieselfde.”
Sonika frons. “Wat bedoel jy?”
“Jy en Michael moet self hieroor praat, ek het hom belowe ek sal nie
betrokke raak nie.” Sy staan op. “Ek het jou vertel wat ek graag wou. Ek
vertrek môre huis toe, maar ek hoop ons kry weer ’n kans om mekaar beter te
leer ken.”
“Seker, ek sal graag wil, maar ...”
Angela keer haar met die hand voor sy verder kan uitvra. “Ek het dalk
meer vrae as antwoorde gegee, maar ek sal verkies as jy met Michael daaroor
praat.”
Sy leun oor en gee Sonika ’n piksoentjie op die wang. “Totsiens, Sonika.
Ek is bly ek kon jou uiteindelik ontmoet. Wees goed vir Michael.”
“Maar ...”
Angela stap uit en Sonika kan net verdwaas na die deur staar. Wat was
Angela se doel met haar besoek? Verward skud sy haar kop. Sy gaan nie ’n
verskuilde boodskap in Angela se woorde soek nie. Sy is bly hulle is familie,
maar verder verander dit niks aan die huidige situasie nie. Môre moet sy
Michael weer met ’n aanbieding in sy kantoor sien. Al haar breinkrag moet
ingespan word om uit te werk hoe sy die situasie tot haar voordeel kan
gebruik.

Traag stap Sonika die ontvangs van die Meskin-groep binne. Hoe gaan sy
onverskillig voorkom terwyl sy weet hoe sy oor hom voel? So ’n goeie
aktrise is sy nou maar eenmaal nie. Hy het haar ook nie sedert Sondag weer
gebel nie en die kat-en-muis-speletjie maak haar gedaan.
Die laaste gebeure in die Meskin-gebou speel ook in haar gedagtes af soos
’n swak fliek wat sy probeer vergeet. Sy sal verkies om hierdie gebou
heeltemal te vermy.
Sy gaan sit en ignoreer die ontvangsdame se onderlangse blikke. Sy
vermoed sy is ’n gereelde besprekingspunt onder sy personeel ná die
verlowingsfiasko en haar optrede met die geskenke.
Sy staan op toe Michael en twee van sy bestuurders by die hysbak uitstap.
Hy lyk ongelooflik aantreklik in ’n donkergrys pak, met sy blonde hare wat
blink in die lig en sy oë helderblou. Hy lyk bly om haar te sien.
Senuagtig trek sy haar swart baadjie reg en stoot haar hare uit haar gesig.
Sy voel onseker en terselfdertyd opgewonde. Sy wil so graag by haar
voornemens bly om ’n professionele afstand te handhaaf, maar haar hart wil
net nie saamwerk nie. Sy kou benoud aan haar lip toe hy vinnig naderstap.
Hy kom voor haar staan en sy blik beweeg bewonderend oor haar. Sy voel
die hitte wat in haar wange opstoot en sy is oorbewus van hul geamuseerde
gehoor. Sy snak na haar asem toe hy sy hande om haar gesig kelk en sy lippe
hare ontmoet. Sy vergeet waar hulle is, haar hande beweeg gretig na sy
skouers en sy beantwoord sy soen. Hy lig eerste sy kop op.
“Ek is bly om jou te sien. Jy lyk pragtig,” fluister hy voor hy effens
wegbeweeg. Sy bekyk hom ondersoekend. Sy woorde klink opreg en sy kan
nie die genoeglikheid keer wat deur haar ontvanklike liggaam trek nie.
Jou idioot! berispe haar logika haar. Hoe maklik word jy deur mooi
woordjies en intieme blikke meegevoer? Die finale beslissing is egter nie in
die guns van haar logiese denke nie. Haar logika sal nooit in sy
teenwoordigheid die oorhand kry nie, daarmee sal sy moet begin vrede maak.
“Kom, ons gaan eet eers middagete voor jy die personeel oor arbeidsake
toespreek.” Hy trek haar in die rigting van die hysbak nadat hy haar aktetas
en skootrekenaar aan een van sy bestuurders oorhandig het. Sy volg gedwee.
Die res van die bestuurspan wag in die privaat sitkamer en hulle groet haar
vriendelik. Almal gaan sit rondom die ovaalvormige tafel waarna die kelner
die bestellings neem.
Voor sy ’n veilige gesprek met die bestuurder aan haar linkerkant kan
begin, vou Michael sy arm om haar skouer en moet sy na hom kyk.
“Het jy na my verlang?” fluister hy teen haar oor.
“Nee, moes ek?”
Hy glimlag breed en sy staar betower na die volheid van sy lippe naby
hare.
“Ek het na jou verlang. Is jy nog kwaad vir my?”
“Nee, soos ek gesê het, jy kan kuier by wie jy wil.”
“Leuenaar.” Hy skuif sy hand van haar skouer na haar nek, sy beweeg
nader. “Komaan, erken jy is so ’n bietjie jaloers.”
“Nonsens!” verwerp sy die gevolgtrekking. “Ek was nog nooit in my lewe
jaloers nie!” Sy verstik amper aan die blatante leuen, want die waarheid is dat
sy obsessief jaloers was elke keer toe sy hom in ’n tydskrif saam met ’n ander
vrou gesien het, sy wou dit net nooit erken nie.
Hy glimlag meewarig. Nou woel sy hand in haar hare. Sy probeer nie eens
wegbeweeg nie, want sy geniet elke oomblik daarvan.
Sy woorde lei haar aandag terug na hul gesprek. “Dis wat jy sê. Jy is egter
nie die enigste een wat jaloers is nie.”
Sy wil graag die onderwerp verander, maar sy kan nie haar nuuskierigheid
onderdruk nie. “Wat bedoel jy?”
“Die gedagte aan jou eksverloofde wat ek nog nooit ontmoet het nie, maak
my mal, en Kobus ...”
“Kobus?” Sy begin lag, maar dan sien sy hy is ernstig.
“Die aand van die verlowing het hy jou huis toe geneem.” Hy klink
ontevrede en sy kan net haar kop verbaas skud. Kan jy nou meer? Hy
ignoreer haar en dan is hy vies as sy met Kobus se hulp wegkom.
“Dit verbaas my jy het agtergekom ek is weg.”
Sy sit agteroor en neem ’n sluk van haar water. Hy beweeg nog nader. Sy
asem roer haar kuif en hy praat nog sagter. “Ek was elke oomblik van jou
bewus. Jy was asemrowend daardie aand. Ander vroue lyk vaal in jou
teenwoordigheid. Ek wil jou nog iewers heen neem sodat jy weer daardie rok
vir my kan aantrek. Ek wil vergoed vir my dom gedrag deur vir jou te wys
hoe beeldskoon ek jou vind, mét die rok en daarsonder ...”
Kleur stoot in haar wange op en sy kyk vinnig rond om te sien of iemand
sy woorde gehoor het. Gelukkig is almal met hul eie gesprekke besig. Dan
kyk sy verward na die glas in haar hand, oorbewus van sy aandag. Sy weet
nie wat om te sê nie en is verlig toe hul kos voorgesit word. Sy probeer
opnuut ’n gesprek met die man aan haar linkersy begin, maar Michael laat dit
nie toe nie. Hy onderbreek die bestuurder deur ’n opmerking en neem weer al
haar aandag vir die res van die ete in beslag. Hulle kan netsowel alleen wees
met die min aandag wat hy aan die res gee. Sonika weet nie of sy gevlei of
bekommerd moet wees nie.
Ná ete stap hulle na die ouditorium. Sonika is heeltyd bewus van Michael
se besitlike hand teen haar rug, hy laat haar nie toe om weg te beweeg nie.
Met haar aanbieding gaan sit hy skuins voor haar en onderbreek haar gereeld
met een of ander aanprysing. Die geamuseerde uitdrukkings op die personeel
se gesigte spreek boekdele en in ’n stadium hoor sy iemand opmerk: “Nooit
gedink ek sal die baas so verlief sien nie. Ek lag vir die ou wat my weer wil
vertel hy gaan die verlowing verbreek.”
Ná sy manjifieke optrede as smoorverliefde minnaar behoort nie een van
sy personeel meer oor die opregtheid van hul liefdesverhouding te twyfel nie,
dink sy wrang toe hy haar later na die sportmotor vergesel.
Hy maak die motordeur agter haar toe en nadat sy die venster oopgemaak
het, leun hy nader. Sy kan nie langer die opmerking terughou nie: “Het jy al
die verhoog as beroepsmoontlikheid oorweeg?”
Sy glimlag vergroot en kepe vou aantreklik in sy wange. “Wat bedoel jy?”
vra hy ongestoord en leun nog nader.
Sy beweeg so ver moontlik terug teen die leersitplek, maar sy geurige
naskeermiddel agtervolg haar. Sy aktiveer die knoppie wat die harde kap laat
sak en asem die vars lug in.
“Jy verdien ’n toekenning vir daardie vertoning.” Sy wys in die rigting van
sy kantoorgebou.
Hy lag, sy blou oë glinster. Sy kan nie help om opnuut te wonder of sy oë
regtig blouer is as die blou lug agter hom nie.
“Voel jy ongemaklik oor my optrede?” vra hy onverstoorbaar.
“Nee!” Sy protesteer heftig. “Ek dink net dis totaal oordrewe ... jy in die
rol van die betowerde minnaar.” Sy gluur hom geïrriteerd aan.
“Raak gewoond daaraan. Dis ’n rol wat my soos ’n handskoen pas.”
Sy soek die spot in sy oë, maar hy staar haar ernstig aan. Hy gun haar nie
’n kans om sy ontstellende woorde te verwerk nie. Hy leun vorentoe en neem
besit van haar lippe. Sy beur nog terug, maar daar is nie genoeg ruimte nie.
Sy probeer nie reageer nie en sug verlig toe hy uiteindelik sy kop oplig. Sy
kan egter nie die benoudheid in haar oë wegsteek nie en hy kom met ’n
ingenome uitdrukking regop.
“Dis tyd dat die verlowing tot ’n einde kom. Die stof het gaan lê, ek wil
met my lewe aangaan.”
Haar bitsige verklaring het die gewenste uitwerking – sy tevrede
uitdrukking word deur ’n frons vervang.
“Wat is jou planne?” Sy woorde is kil.
“Ek wil teruggaan Kaapstad toe, daar is werk vir my by die
Vroueregskliniek.” Sy oorweeg dit om soos ’n kleuter haar tong selfvoldaan
vir hom uit te steek, maar grynslag liewer volwasse. Dis nie net hy wat
verwarring kan saai nie.
Hy kom weer nader en kyk haar ondersoekend aan, dan skud hy sy kop
terwyl hy wegstaan. “Vergeet daarvan,” verwerp hy haar planne sonder meer.
Sy snak na haar asem. Sy verwaandheid ken geen perke nie! “Vergeet
waarvan?”
“Jou ontsnappingspoging.”
“Wat ook al die rede vir my besluit is, het niks met jou uit te waai nie.” Sy
laat ook nie die kans verbygaan om die laaste snipperige opmerking te maak
nie: “En bewys my ’n guns, verander jou naskeer, ek hou nie daarvan nie!”
Teleurgesteld oor haar kinderagtige optrede en vies vir sy arrogansie, trek sy
weg. Hy speel met haar en sy weet nie hoe om dit stop te sit nie. Hy regeer
dalk in sy selfgeskepte koninkrykie, maar daar wag ’n verrassing op hom as
hy dink sy mag strek so ver om haar kom en gaan te bepaal.
Sonika is skaars by die kantoor toe haar selfoon lui.
“Michael?” Sy wag dat hy weer die onderwerp van haar nuwe werk
aanroer, maar hy stel haar teleur met sy besadigde opmerking.
“Ek wil net dankie sê vir jou moeite. My personeel het dit baie leersaam
gevind.”
“Dit was ’n plesier.”
“Ek sien jou môre vir ons agtuurafspraak. Ek kom haal jou by jou
simpleks.”
“Dis nie nodig, ek ry sommer self.”
“Dit is nodig. Sien jou môre, en ek sal probeer om nie te veel te verlang
nie.”
Verdwaas staar sy na haar selfoon nadat hy syne doodgedruk het. Gaan sy
ooit daarin slaag om sy optrede te voorspel? Sy glo nie.

Hieraan gaan daar nie ’n vinnige einde kom nie, besef sy twee dae later toe
haar selfoon lui. Michael is weer aan die ander kant. Dis sy derde oproep van
die dag en seker sy twintigste sedert haar aanbieding by sy kantoor. Sy was
sedertdien in vele ander konsultasies met hom en sy kliënte en steeds vind hy
die onbeduidendste redes om haar te bel. Sy sukkel om op haar werk te
konsentreer, maar sy is uitgelewer aan die jongste aanslag. Ná elke oproep
kan sy nie wag vir die volgende een nie.
“Sonika.” Sy stem is ernstig. “Ek het die notariële prospekteerkontrak voor
my en is jy seker ons moet die term ‘derhalwe’ gebruik? Ek wil voorstel ons
gebruik ‘gevolglik’.”
Sonika begin onbedaarlik lag.
“Hoekom lag jy? Ek het lank hieroor gedink.”
“Michael, ek wil voorstel jy stel ’n regsadviseur aan om met ons te skakel.
Bestuur eerder jou maatskappy en los die res vir ons.”
“En dan het ek geen rede om met my beeldskone prokureur te praat nie.
Vergeet daarvan. Behalwe as jy om die pos aansoek doen. Dan behoort ek
minder tyd op die foon te wees, dalk net meer in jou kantoor.”
“Hou op, asseblief?” Haar stem is pleitend. Sy optrede is stelselmatig besig
om haar brose voornemens af te takel. Sy wil hom uit haar gedagtes weer, sy
wil nie hierdie tuimelrit van emosies meemaak nie. Sy smag na die bekende
gevoel van stabiliteit in haar lewe.
“As jy bereid is om ’n beëdigde verklaring af te lê dat jy nie my oproepe
geniet nie, sal ek ophou.”
Sy vermy ’n reguit antwoord. “My prokureur het my teen sulke verklarings
gewaarsku.”
“Ek is bly, want ek sou jou van meineed aankla.” Hy klink oormatig
selfversekerd en sy wonder beangs of haar gevoelens so opvallend is. Waar’s
die dae toe sy enige situasie emosieloos kon hanteer? As sy dink hoe
onstabiel haar emosies deesdae is, wonder sy of sy haar net verbeel het dat sy
altyd in beheer van alle situasies was.
“Jy is heeltemal te seker van jou eie sjarme.”
“Glad nie. Net optimisties. Ek belowe egter om my oproepe drasties te
verminder as jy my Saterdagaand vergesel. Ek ontmoet ’n goeie vriend en sy
vrou vir ete. Hulle bly in Kaapstad en is net hier vir die naweek.”
“Ek kan nie, ek het belowe om ’n draai by Hanro te maak. Hy verjaar.”
“Hanro?” Hy klink geskok. “Van wanneer af het jy weer kontak met
hom?”
Sonika voel sy moet haar verdedig. “Ek het nog geen rede gehad om
kontak met hom te verbreek nie.”
“Jy is aan my verloof.” Nou klink hy soos ’n ontevrede skoolseun en sy
kan nie help om te glimlag nie.
“Asseblief, Michael, moenie belaglik wees nie. Jy weet dis vir vertoon.”
Daar is ’n oomblik stilte, dan sê hy skerp: “As daar nog iets tussen julle is,
waarom wil jy Kaapstad toe gaan?”
Sy krabbel met haar pen op haar memoboekie. Daar is seker geen rede om
nie die waarheid te vertel nie, besluit sy. “Daar is niks meer tussen ons nie.”
“Hoekom wil jy dan eerder daar kuier as saam met my?”
Sy sug. Wat probeer hy nou met so ’n opmerking bereik? “Hy bly ’n goeie
vriend.”
“En vir die media is ek jou verloofde en daarom volg hulle elke beweging
van jou om te sien waar jy gaan verbrou, en wat is meer ideaal as ’n kuiertjie
by ’n ou vriend?”
“Jy oordryf.”
“Sal ek vir my reklameafdeling vra om die berig vir jou aan te stuur waar
jy sonder jou verloofring voor jou kantoor afgeneem is die Maandag ná ons
verlowing, en drie berigte met foto’s van die ring toe jy dit weer begin dra het
en die meegaande bespiegelings oor die waarde daarvan, en een van jou in ’n
skrapse broekie en toppie waar jy die muurbalbane saam met Paul verlaat
en ...”
Sonika onderbreek hom. “Goed, ek kry die boodskap. Ek weet nie van die
berigte nie, niemand het my gewaarsku dat ek so dopgehou word nie. Ek sal
Hanro bel.”
“Sal jy dan asseblief saam met my gaan? Ek wil jou graag aan Derrick en
Yvonne voorstel.”
“Oukei, hoe laat moet ek jou verwag?”
“Net ná ses. Ek sien jou dan.”
Dis die laaste keer, belowe sy haarself toe sy die foon neersit. Sy dien haar
bedanking in sodra sy die kontrak van die Vroueregskliniek ontvang het en
oor drie maande is sy terug in die Kaap. Sy kan nie meer wag nie. Sy glimlag
skepties. En sy lieg vir haarself. Sy glo egter dat sy in Kaapstad ver van sy
sjarme sal wees en hy nie die moeite sal doen om haar te bel as sy nie meer in
sig is nie, al het hy die woonstel daar gekoop. Dan kan sy met die
herstelproses begin. Daar is niks so effektief om jou eie pyn te vergeet soos
om jou in die haglike omstandighede van ander te verdiep nie. Sy weet, sy
het vantevore daardie pad gestap.
Onwillekeurig loer sy in haar dagboek. Geen afspraak met Michael vir die
res van die week nie. Die week gaan baie lank wees tot Saterdag, moet sy
teësinnig erken. Haar lewe is vaal wanneer hy nie in die omgewing is nie. Die
gedagte is genoeg om haar verder mismoedig te maak.

Sonika leun oor die balkonmuur. Sy het ’n asemrowende uitsig oor die stad.
Tot haar verbasing het Michael haar na sy huis gebring waar sy vriende
gewag het. Sy het onmiddellik van sy huis gehou met sy ruim vertrekke vol
antieke meubels wat hy uit Londen ingevoer het. Alles is sonder vertoon, sy
kan hom met die omgewing vereenselwig.
Sy het vinnig tuis gevoel by sy vriende, en die afgelope drie uur het hulle
gesellig gekuier. Dis geleenthede soos dié wat haar laat wens dat daar vir
hulle ’n toekoms is. Sy vroetel met die verloofring aan haar vinger. Hierdie
alewige hoop op iets wat nie gaan realiseer nie, het haar laat besluit dat sy
vanaand dinge tot ’n punt moet bring. Sy moet sekere aspekte van haar lewe
begin afhandel, anders sal sy nooit ’n sukses van haar toekoms in Kaapstad
kan maak nie.
Deur die glasskuifdeure kan sy die mans en Yvonne, wat eenkant besig is
met ’n telefoongesprek met haar skoonma, sien.
Dit gaan die moeilikste ding wees om te doen, maar vir haar selfbehoud
moet sy deurdruk.
Michael se oë talm lank op die aanvallige prentjie van Sonika op die
balkon en kyk dan na sy vriend. “Jy sal dus die onderhandelings vir my
doen?”
“Los dit vir my. Hulle sal nie kan weier nie. Jy is dus bereid om die koste
te dra vir die stigting van die satellietkantoor in Johannesburg, die uitgawes
vir vyf jaar en hulp om nog donateurs te vind. Jy het egter nog nie
verduidelik hoekom sy in Kaapstad wil werk as julle verloof is nie?”
Michael omseil weer die vraag. “Dis moeilik om nou te verduidelik. Ek sal
dit egter waardeer as jy sou gou moontlik met die onderhandelings begin.
Hulle moet die nuwe aanbod in die komende week maak, voor sy begin
reëlings tref om te trek. Haar simpleks is in ’n gesogte area, sy sal nie sukkel
om dit te verkoop nie en ek wil dit verhoed. En onthou, my naam mag onder
geen omstandighede as donateur genoem word nie.”
Derrick trek sy wenkbroue skepties op en Michael verweer hom vinnig.
“Ek sal haar op die regte oomblik daarvan sê. As sy weet ek sit agter die
aanbod, sal sy uit blote hardkoppigheid weier.”
Yvonne sluit by hulle aan. “Ons sal moet gaan,” lig sy Derrick in. “Jou ma
sê Thea is baie huilerig en sy kan haar nie stilkry nie.”
Die mans staan op en Sonika beweeg nader.
“Sonika, ons moet ongelukkig terug na my skoonouers toe, my baba is
knieserig. Dit was wonderlik om jou te ontmoet, ek was so teleurgesteld dat
ons nie julle verlowing kon bywoon nie, maar ons kon net nie daardie
naweek kom nie.” Yvonne omhels Sonika voor sy na Michael kyk. “Jy het
nou geen verskoning om nie vir ons te kom kuier nie. Julle het nou ’n
woonstel in Kaapstad, daarom verwag ek dat ek julle gereeld daar sal sien.”
Michael glimlag. “Ek beoog om minstens een keer per maand te kom. Julle
gaan moeg raak vir ons gesigte. Kom, ek stap saam met julle na julle motor.”
Michael sluit ’n paar minute later weer by Sonika aan. Hy gaan langs haar
op die donkerbruin leerbank sit, vou sy arm om haar skouers en trek haar teen
sy bors vas.
Sy sluk swaar, maar het nie die krag om weg te beweeg nie. “Ek hou van
jou vriende,” prewel sy.
Hy glimlag. “En hulle hou van jou.” Hy trek haar nog nader en leun met sy
kop teen haar hare. Sonika voel hoe alles in haar sag word en aan die bewe
gaan. Hy moenie so liefderik optree nie, vanaand moet sy die stap doen.
“Ek moet môre Londen toe vlieg, ek is vir ’n week weg. Daar is sake wat
Graeme nie namens my kan hanteer nie. Ek wens ek kon jou saamvat.”
Met bewerige bene staan sy op. Sy draai na hom, haar hande voor haar
ineengestrengel. Hy kyk verbaas na haar. Haar hart protesteer teen die besluit,
maar sy druk deur. Die woorde word oor haar droë lippe geforseer. “Ek dink
dis beter so. Ek het die laaste ruk baie oor ons gedink. Ek was ernstig toe ek
gesê het ek gaan terug Kaapstad toe. My sake is so te sê gefinaliseer en
daarom is dit tyd dat ons aankondig dat die verlowing verbreek is. Ek wil hê
die fiasko moet verby wees.” Sy laat sak haar oë en staar na die donkerrooi
tapyt onder haar voete. Solank sy nie na hom hoef te kyk nie, kan sy
deurdruk. “Ek sal dit daarna verkies as ons mekaar nie buite werkverband
sien nie.”
Hy staan op. “Hoekom die skielike besluit?” Sy kyk op ná sy harde
woorde, maar sy gesig wys nie wat hy voel nie.
Sy vryf senuagtig deur haar los hare. “Dis nie skielik nie. Ons albei weet
hier is nie sprake van ’n verhouding nie. Ek is bly ons kon tot die vlak van
vriendskap vorder, maar die verlede sal altyd ’n faktor tussen ons wees.” Sy
vou haar arms om haar lyf, probeer die pyn ignoreer wat in haar binneste
ontvou.
Hy draai sy rug na haar, gaan staan voor die skuifdeur en tuur oor die stad.
“Ek sien. Ek wou die beste vir laaste los, maar nou is dit seker onbelangrik.
My ma is terug. Sy kom Vrydagaand en sy het gevra dat ons albei haar op die
lughawe gaan haal en die naweek saam met haar op die plaas deurbring.”
“Weet sy nie van die ware toedrag van sake nie?”
“Sy het van niks geweet nie tot ek haar laas week ingelig het. Ek wou haar
nie graag die ware feite oor die foon vertel nie en sy was natuurlik baie
opgewonde daaroor dat ons weer by mekaar is. Ek sal haar die naweek vertel
en die verlowing die week daarna amptelik verbreek.”
Dis presies wat sy wou gehad het, maar haar hart krimp ineen by die
gedagte. Haar tyd saam met hom loop uit. “Ek sal saamkom, ek wil vreeslik
graag weer vir Elise sien.”
Hy draai stadig om, maar kyk nie na haar nie. “Ek sal jou huis toe vat.”
“Ek sal verkies as David dit doen.”
“Dis goed so, ek roep hom.” Hy stap uit sonder ’n verdere blik in haar
rigting. Sy knip die trane weg. Dis die beste vir almal dat sy die stap gedoen
het. As sy dit genoeg herhaal, mag sy dit dalk eendag begin glo.

Oorbluf sit Sonika die foon neer. Wat ’n vreemde oproep op ’n


Maandagmiddag.
Sy glimlag stram toe Monique haar kantoor binnestap. Net die regte mens
om haar verwarring mee te deel.
“Ek was in die omgewing toe dag ek ek sal gou kom hallo sê. En net
ingeval dit ongeleë is, het ek jou favourite koffie en muffin gebring om te
vergoed.”
“Jy weet jy is altyd welkom.” Gretig neem sy die koffie en die muffin, sy
het nie besef hoe honger sy is tot sy die kos gesien het nie. Sy het nog niks
vandag geëet nie, om die waarheid te sê, het sy die hele naweek bitter min
geëet. Sy het oornag haar aptyt vir alles verloor.
“Ek het nou net die vreemdste oproep gehad.”
Monique sak neer op die besoekerstoel en lig ’n vraende wenkbrou.
“Vertel!”
“Dit was van die Vroueregskliniek in Kaapstad. Ons het so te sê ’n
mondelinge ooreenkoms dat ek oor ’n week daar begin werk, en nou bel die
direkteur uit die bloute met die versoek om ’n pos hier in Johannesburg te
oorweeg. Oornag kry hulle ’n donateur wat fondse sal voorsien om ’n
takkantoor te open. Die idee is dat ek en die nodige administratiewe
personeel aangestel word, en soos die kliniek uitbrei, meer prokureurs. My
inkomste is min of meer dieselfde as nou en die kontrak geldig vir vyf jaar.”
“En wat gaan jy doen?”
Sonika neem ’n happie van haar muffin en antwoord eers ná die laaste
sluk. “Ek sal ’n idioot wees as ek die aanbod weier. Nie net die salaris nie,
maar ook die uitdaging om so iets aan te pak, is baie aanloklik. Die enigste
nadeel is dat ek nie Kaapstad toe kan verhuis nie.”
Monique strek haar bene gemaklik uit. Sy beskou haar vriendin nadenkend
voor sy antwoord. “Ek sien geen probleem daarmee nie, ek sal bly wees as jy
nie wegtrek nie. Ek het wel die woonstel in Bloubergstrand, maar ek kom te
min daar.” Sy gooi haar leë houer in die asblik. “Jy is egter omgekrap oor
meer as net jou werkstorie. Wat is fout?”
Sonika vee die krummels van haar skoot af voor sy antwoord. “Ons gaan
volgende week aankondig dat die verlowing verbreek is.”
Monique frons. “Dis ’n verrassing. Ek het tog die idee gekry dat julle weer
goed kliek. Het ek my verbeel?”
“Daar is tye wanneer ons mekaar se geselskap ontsaglik geniet, en dan is
daar die oomblikke wanneer die herinneringe alles versuur. Ek dink dis die
beste dat ons by ’n afsluitpunt kom. Ek wil nie net een van sy vele verworpe
meisies wees nie, een keer was genoeg.”
“Ek hoor wat jy sê, maar ek het tog gehoop ...”
“Kom ons los dit net. Dis amper verby en ek verdien ’n skoon begin.” Sy
dwing haar gedagtes weg van haar eie probleme en vra: “Hoe gaan dit met
jou en Theo?”
“Fantasties. Ek is bang om te gou te praat, maar in alle opsigte voel hy
soos die een vir my. Maar dan het ek dit al tevore gesê en is pynlik verkeerd
bewys.”
Die twee meisies kyk met woordelose begrip na mekaar.
“Wel, vir wat dit werd is, is dit die eerste van jou mansvriende van wie ek
ook hou. Hy lyk opreg en eerlik.”
Monique kom orent. “Ek moet loop. Ek sal later die week weer ’n draai by
jou kom maak. Dink mooi voor jy ’n finale besluit neem.”
Twaalf
’n Beklemmende gevoel vou om Sonika se hart die oomblik toe Michael haar
met sy viertrek op pad lughawe toe kom haal. Ná hierdie naweek is dit verby,
sy weet dit met absolute sekerheid, en die gedagte maak haar bang. Hoe sal
sy normaal kan aangaan met haar lewe as hy nie deel daarvan is nie? Het sy
die innerlike krag om so ’n pad weer aan te pak?
Albei is stil op pad lughawe toe. Sonika het nie die krag vir ’n
oppervlakkige gesprek nie. Sy gebruik die geleentheid om al die laaste
indrukke van hom in haar kop te stoor. As hy nie die geld aanvaar het nie,
dan het hulle seker opgeskote kinders gehad. Hoe smag sy nie na haar eie
gesin nie, nou sal sy nooit daardie soet ervaring hê nie en hy sal dit met ’n
ander vrou deel.
Die eerste sien van Elise is eens te veel vir haar en die ongevoelige front
wat sy tot nou toe moes voorhou, breek. Sy voel hoe die trane oor haar wange
loop en sy hou Elise styf vas.
“Wat is fout, my meisie?” Sonika omhels haar net nog stywer. Sy kan nie
nou verduidelik nie. Dan tree sy terug en neem die snesie wat na haar
uitgehou word.
“Niks.” Sy vee die trane af. “Ek het net na jou verlang.”
“Ek het jou ook gemis. Ek kan nie vir jou sê hoe bly ek oor julle verlowing
is nie.” Sy beloon albei met ’n warm omhelsing en sien nie die skuldige
blikke wat die twee vinnig wissel nie. Sy vat Sonika se hand en bewonder die
verloofring. “Dis pragtig! Ek beny julle so hierdie opgewondenheid voor die
troue. Ek was bang ek gaan dit misloop. Nou is ek terug en as jou ma my
toelaat, gaan ons die troue van die jaar beplan. Ek kan nie meer wag om jou
deel van my gesin te maak nie.”
Elise brei vir die res van die rit oor haar planne vir die troue uit en net voor
Sonika sien hoe sy die datum vasstel, draai hulle by die plaas se grondpad in.
Terwyl Michael die bagasie uithaal, draai ’n bekommerde Elise na Sonika.
“Wat is fout? Julle het nie ’n woord tydens die rit nie gesê. Ek wil nie die
reëlings oorneem nie, as dit is wat jy dink?”
Sonika skud haar kop. “Nee, dis nie die probleem nie. Dis net dat ek en
Michael ...” Voor sy oor die verlowing kan bely, word sy deur Michael
onderbreek.
“Wat Sonika probeer sê, is dat ons nie haastig is om te trou nie.”
’n Ongemaklike stilte heers ’n rukkie.
“Ons sal later daaroor praat, Ma is seker moeg,” sê Michael beslis en stap
met die bagasie in die rigting van die ou kliphuis.
Sonika bekyk eers haar omgewing voor sy die huis binnestap. Sedert sy
laas hier was, is baie verbeterings aangebring. Die sinkdak is deur teëls
vervang en die swembad langs die huis is vergroot. Die tuin kry ook meer
aandag en is pragtig met sy inheemse plante en blomme.
“Sonika, waar is jy?” Elise se stem kom uit die voorkamer. Sy sluit by
hulle aan.
“Michael, Sonika slaap in die hoofgastekamer, jy kan haar tas soontoe
neem. Sy wil seker gaan slaap. Ons kan môre verder kuier.”
Hy stap na die aangewese kamer met ’n ongemaklike Sonika kort op sy
hakke.
Sonika druk die kamerdeur agter haar toe en gluur hom aan. “Ons moet
ophou om voor te gee, ek is nie op my gemak hiermee nie.”
Michael gooi haar tas op die bed neer. “Ons sal. Ek het belowe voor die
einde van die naweek, maar as dit regtig vir jou so moeilik is om voor te gee
dat daar ’n verhouding tussen ons is ...”
Sonika swaai haar hande moedeloos deur die lug. “Kom ons los dit tot
môre, ek is moeg en nie lus vir ’n sinnelose woordewisseling nie. Ek sal jou
môreoggend sien.” Sy maak die deur oop en wag veelseggend met haar hand
op die deurknop. ’n Oomblik lyk dit asof hy nog iets wil sê, dan stap hy uit en
trek die kamerdeur hard agter hom toe.
Sonika gaan mismoedig op die rand van die dubbelbed sit. Sy weet haar
reaksie met haar en Elise se weersiens was onvanpas, maar sy kon nie die
trane keer met die pynlike herinneringe wat deur haar teenwoordigheid
opgeroep is nie. Sy sal weer haar emosies in toom moet kry, sy is nie van
nature so huilerig nie.
Die volgende oggend tref Sonika Michael en sy ma in die kombuis aan
waar hulle koffie drink.
“Sonika, kom kry vir jou koffie.” Elise se hartlike verwelkoming vou om
haar soos ’n bekende baadjie. Sy gaan sit langs Michael en neem die beker
koffie.
“Het jy lekker geslaap?” vra Elise.
Sonika knik en loer oor haar beker na Michael, wat haar aandagtig dophou.
“Sy is darem ’n pragtige meisiekind,” sê Elise en Sonika skuif ongemaklik
rond toe twee paar blou oë haar in die kniebroek, T-hemp en stapstewels
bekyk.
“Die mooiste.”
“Gaan julle tweetjies ’n bietjie ná ontbyt stap?”
“Ja, as sy wil.” Michael kyk vraend na Sonika en sy knik instemmend.
“Ek sal gou met die ontbyt begin, julle moet wegkom voor dit te warm
word. Sonika, jy kan die brood rooster terwyl Michael die tafel dek.”
Daar word heerlik in die kombuis gekuier. ’n Ontspanne Michael en ’n
borrelende Elise bring Sonika op datum van die afgelope dekade.
Diplomaties word die gebeure net ná hul verdwyning vermy en Sonika vra
ook nie uit nie.
Dis weer ’n ander sy van Michael wat Sonika opnuut leer ken in die
informaliteit van sy ma se huis en deur sy aanhoudende gekorswel met haar.
Sy dra min tot die gesprek by. Ná ete stut sy haar gesig in haar hand en hou
die interaksie tussen die twee dop. ’n Onuitspreeklike hartseer en verlange
vul haar. Sy kom regop in ’n poging om van die neerdrukkende gevoel weg te
kom en stap na die agterdeur waar sy die vars lug diep inasem.
Elise is onmiddellik verskonend. “Sonika, jammer, hier gaan ons aan oor
die ou dae en jy wil seker ’n bietjie gaan stap. Michael, vat ’n bottel koue
water uit die yskas. Ek sal julle later sien.”
Michael plak ’n blou pet op haar kop en hou sy hand uit. Sy vat dit, volg
hom na buite en luister aandagtig na sy beskrywings van die verbeterings wat
op die plaas aangebring is. Sy stap agter hom op ’n voetpaadjie wat deur die
ruie bosse loop. Nou en dan stop hy wanneer hy iets gewaar en beduie waar
hy wild sien.
Hulle kom by ’n dam uit waar ’n groen grasperk onder welige bome
aangeplant is. Michael haal ’n kombers uit sy rugsak, gooi dit op die gras
neer en haal ’n bottel koue water uit. Behaaglik strek sy haar op die kombers
uit met die rugsak as kussing terwyl sy aan die water teug en die omgewing
bewonder. Haar oë rus eindelik op Michael wat voor hom sit en uitstaar.
Haar vingers jeuk om teen die vorm van sy ferm bolyf in sy nousluitende
hemp uit te klim. Sy keer haar eiesinnige hand net betyds. Sy moet by haar
voorneme bly.
Hy draai na haar. Daar is ’n bekommerde frons tussen sy blou oë en ’n
dringendheid in sy stem toe hy die rustigheid verbreek. “Sonika, ons moet
praat.”
Sy bedoeling is duidelik en sy sit regop. Daar is seker geen beter tyd as
nou om oor die verlede te praat nie. Sy is gereed om uiteindelik sy kant te
hoor en hom finaal te vergewe. Die tyd het aangebreek om dit wat verby is,
agter te laat.
’n Harde snorkgeluid klink skielik skuins voor haar op. Sy gryp Michael
benoud aan die skouer.
“Net ’n seekoei.” Hy beduie glimlaggend na die dier wat in die water te
voorskyn kom. “Ons is veilig terwyl sy in die water is. Ek het gewonder of sy
nog hier is.”
Nuuskierig hou Sonika die groot gedierte dop. Nog nooit was sy so na aan
’n seekoei nie.
Meteens word sy bewus van Michael se hand wat die een oomblik
vertroostend en dan strelend oor haar rug beweeg. Sy kyk vinnig na hom, sy
herken die warm kyk in sy oë. Sy wil protesteer, sy kan nie nou toegee aan ...
Maar alles is vergete toe sy kop stadig naderbeweeg, sy lippe hare saggies
aanraak. Gewillig gaan haar mond oop. Sy is skaars bewus van sy hand wat
haar pet eenkant toe gooi en sy gee mee toe hy haar teen die kombers
terugstoot.
Sy liggaam teen hare voel so reg. Sy draai haar kop sodat sy lippe en tong
die kurwes van haar nek kan ondersoek. Warm sensasies stroom deur haar.
Elke aanraking voel so bekend, en tog so nuut. Sy hande beweeg oor haar lyf
terwyl haar lippe gevange gehou word. Sy is gereed vir die finale oorgawe
toe sy hand om die soom van haar hempie sluit. Sy weet sy moenie. Die
situasie is kompleks, maar weer eens triomfeer haar liggaam en hart se
behoeftes.
Met bewerige hande help sy hom om haar hempie oor haar kop te trek. Sy
hemp volg kort daarna. Vel teen vel vind hul liggame mekaar. Sy hand vou
om haar broeksknopie, dan lig hy meteens sy kop op.
“Tref jy voorsorg?” Sy stem is hees, sy oë diepblou.
Sy kyk hom dom aan en dan tref die betekenis van sy woorde haar.
“Nee ...” Sy skud haar kop.
Hy frons. “Jy en Hanro?”
“Nee, glad nie.” Voorsorg was nog nooit eens ’n opsie nie, want sy was
nog nooit weer in ’n situasie dat sy so ’n besluit moes neem nie.
Michael gaan sit op sy hurke.
Sonika hou hom verward dop. ’n Stroewe vreemdeling sit voor haar.
“Is jy nie bekommerd oor die gevolge nie?” Sy woorde klink venynig.
“Ek verstaan nie ...”
“Ek dink ek verstaan baie goed, die geskiedenis word herhaal. As seks ...”
hy spoeg die laaste woord uit, “... ’n swangerskap tot gevolg het, gaan jy
weer my kind aborteer?”
Sonika se liggaam verstyf en koue sweet slaan oor haar vel uit by die
aanhoor van dié wilde aantyging. Sy spring op en trek haar hempie vinnig oor
haar kop. Haar kop draai. Sy aanval maak nie sin nie. “Is jy van jou verstand
af? Ek het nog nooit en sal nooit in my lewe so iets oorweeg nie. Wat dink jy
van my?”
Hy kom ook orent. “Jy lieg! Hoe vinnig vergeet jy nie! Jy is die een wat
erken het jy het my kind geaborteer!”
“Waarvan praat jy?” Sonika staar hom verdwaas aan, verslae oor sy
uitbarsting.
Hy lyk skepties. “Moet ek jou regtig herinner aan vyftien jaar gelede toe jy
swanger was met my kind?”
“Daar was geen swangerskap nie, my ouers het jou tog ingelig.”
“Jou ouers hoef my niks te vertel het nie, ek het jou brief gelees.”
“Watter brief?”
“My magtig, Sonika, hoe kan jy vergeet? Die een waarin jy sê dis verby
tussen ons en dat jy Londen toe gaan vir ’n aborsie.”
“Dis ’n massiewe leuen! Jy was die een wat te geldgierig was om by my te
bly.”
“Sonika, erken net jou aandeel, asseblief? Ek het nooit daardie belaglike
aanbod van jou pa oorweeg nie. Jy is die een wat die brief geskryf het. Jy is
die een wat saam met jou ma Londen toe vertrek het, ek het die vlug bevestig.
As jy ten minste eerlik is, kan ons probeer om iets uit hierdie gemors te red.
Daarsonder kan ons nie by vergifnis uitkom nie!”
“Red? Hier is niks te red nie. Ek luister nie verder na jou belaglike
aantygings nie. Dè, vat jou ring en los my uit.” Sy gooi die ring in sy rigting.
“Ek wil niks verder van jou en jou beskuldigings hoor nie! Ek kan nie glo jy
daal so laag om jou walglike optrede agter leuens te verskuil nie.”
Sy draai om en storm terug op die paadjie waarlangs hulle gekom het.
Elise kyk geskok om toe sy die kombuis vervaard binnekom.
“Waar is sy motorsleutels?” Sonika se keel is rou, haar stem dik. Sy sluk
die trane weg.
“Wat is fout?” Sy kan nie in Elise se bekommerde oë kyk nie en gryp die
sleutel van die yskas af waar Elise beduie. Sonder ’n verduideliking gaan kry
sy haar goed in die kamer en hardloop na die motor toe.
Sy moet wegkom voor Michael haar kry. Die seer is besig om haar
uitmekaar te skeur. Sy moet by ’n veilige plek kom waar sy die stukke kan
bymekaarmaak.

Sy weet nie hoe sy by haar huis gekom het nie. Sy kan nie onthou hoe sy die
res van die naweek oorleef het nie. Dis asof sy in dwaal beweeg, asof haar
verstand die realiteit blokkeer.
Die Maandag trek sy werktuiglik aan vir werk, ry kantoor toe en probeer
om op haar werk te konsentreer. Ná ’n nuttelose uur berei sy ’n
persverklaring voor en stuur vir Jennifer die e-pos om te versprei.
Miskien is dit oorhaastig, maar sy het die amptelike boodskap nodig om te
aanvaar alles het finaal tot ’n einde gekom. Sy het onbewustelik nog heeltyd
gehoop dinge kan miskien tussen hulle uitwerk. Daardie hoop is finaal deur
sy belaglike aantygings vernietig. Nou moet sy die beste van ’n slegte saak
maak.
Sodra iemand haar kantoor binnekom, word die persoon kil weggejaag.
Ná middagete stap Tarien huiwerig haar kantoor binne. “Jennifer sê jy
soek my?” Haar stem is benoud. Sonika voel onmiddellik skuldig toe sy die
vrees op die prokureursklerk se gesig sien. Sy moet weer beheer van haar
situasie neem, haar probleme mag nie haar personeel s’n word nie.
Sy hou twee stelle sleutels na Tarien uit. “Ek wil hê jy moet met die ander
klerke reël om die sportmotor en die viertrek by my simpleks na doktor
Meskin terug te neem. Daarna moet julle my motor by die werkwinkel gaan
haal waar hulle dit tydelik vir my gehou het.” Haar stem is hees en sy sien
hoe Tarien tersluiks na haar ringvinger loer.
“Ja, ek het die verlowing verbreek. Ek het vanoggend ’n verklaring na die
koerante gestuur en ek wil vra dat die personeel nie met die media praat nie.
As jy die boodskap so kan deurgee. Kry by Jennifer die adres van die
werkwinkel. Dankie, dit sal al wees.”
’n Uur later is Tarien terug. “Ons het die voertuie veilig afgelewer. Doktor
Meskin was nie daar nie, maar sy sekretaresse het die sleutels geneem. Daar
is net ’n ander probleem ...” Ongeduldig kyk Sonika na die meisie. Geen
ander probleem kan groter wees as die een wat sy nou in die gesig staar nie,
maar sy sê niks, wag net dat Tarien huiwerig voortgaan. “Volgens die eienaar
van die werkwinkel is jou motor weke gelede in opdrag van jou verloofde
verkoop en die geld in jou bankrekening gedeponeer.”
Sonika antwoord nie. Wat moet sy sê? Sy het nooit enige deposito in haar
rekening opgelet nie, maar vir haar ou motortjie was dit seker ’n minimale
bedrag.
“Dankie vir julle moeite. Ek wil nie verder gesteur word nie. As jy die deur
agter jou sal toetrek ...”
Agter die toe deur laat sak Sonika haar kop op haar arms. Haar gedagtes
klou vas aan die afgelope gebeure. Waarom het hy die aantygings gemaak?
Sy weet nie. Sy verstaan dit glad nie, maar dan het nog min van sy optrede
sedert sy herverskyning sin gemaak. Sy moet die vermoëns wat sy die vorige
keer aangeleer het, nou toepas. Sy mag nie weer ineenstort nie, sy is nie ’n
onervare jongmeisie nie.
Dertien
Later die middag op pad om ’n nuwe motortjie te soek, word ’n mismoedige
Sonika deur Jennifer in die gang voorgekeer met die onwelkome nuus dat
Graeme met haar wil praat en dat hy in een van die raadsale wag.
Hy staan voor die venster met sy rug na haar toe sy instap en draai stadig
om toe sy groet. Vir die eerste keer sien sy dat hy ongemaklik in haar
teenwoordigheid is. Albei bly staan en Sonika beduie vir hom om te praat.
“Ek gaan nie doekies omdraai nie. Jy het seker aangevoel ek hou nie baie
van jou nie en die rede is jou geskiedenis met Michael, waaroor ek ten volle
ingelig is. Ek sou nie in normale omstandighede hierdie stap oorweeg het nie.
Hy het my egter vertel wat die naweek gebeur het en dat jy alles ontken het,
daarom het ek gedink dis nodig om iets vir jou te bring.” Hy haal ’n
verweerde koevert uit sy binnesak en oorhandig dit aan ’n verbaasde Sonika.
“Hierdie koevert en sy inhoud dra hy by hom vandat ek hom ken. Hy beskou
dit as die dryfveer vir sy sukses. Ek het dit sonder sy toestemming gevat
omdat ek weet hy sal nie die bewyse vir jou gee nie. Ek het ’n sterk vermoede
julle gaan albei te hardkoppig wees om die eerste tree na mekaar te gee en
daarom tree ek nou as bemiddelaar op. Sy geluk is belangriker as enige
haatdraende gevoelens wat ek teen jou koester oor wat ek gedink het jy hom
aangedoen het. Jy is intelligent genoeg om die regte afleidings te maak oor
die inhoud van die pakkie, want ek wil jou glo as jy sê dat jy nooit die brief
geskryf het nie. Tyd mag my verkeerd bewys. Ek wil net die koevert so gou
moontlik terugkry voor hy agterkom dis weg. Ons praat weer. Sterkte.”
Sonika se onvaste bene gee onder haar mee en sy trek ’n stoel nader. Met
bewende hande haal sy die briefie uit. Dit lyk asof dit deur haar geskryf is,
maar sy weet sy het nie. Sy voel nog iets in die koevert en bring haar eerste
verloofring te voorskyn. Haar trane beskadig die brief nog verder. Die
implikasie is te groot om in te neem, want die afleiding is nie moeilik nie. Sy
het dit nie geskryf nie en volgens Graeme moet sy aanvaar Michael het dit
nie geskep nie. Wie is dan hiervoor verantwoordelik? Die ring is ’n goeie
aanduiding omdat sy dit die laaste keer gesien het toe haar ma dit in haar
ouerhuis van haar nek afgeruk het. Het sy haar vertroue in die verkeerde
mense gestel?

Haar ouers is soos gewoonlik hierdie tyd van die aand in hul privaat sitkamer
waar hulle ná aandete ’n drankie geniet voor haar pa na sy studeerkamer toe
gaan en haar ma voorbereidings tref om te gaan slaap.
Hulle lyk nie verbaas toe hulle haar sien nie en reageer ook nie op die brief
wat voor hulle op die koffietafel neergegooi word nie. Haar pa kyk terloops
daarna en kyk haar dan uitdrukkingloos in die oë. “Wil jy nie sit nie?” Sy
rustige versoek laat Sonika stom.
Hy gaan voort toe sy nie antwoord nie. “Ons het dit vir jou beswil
gedoen.”
“Die gewisselde tjek en die ooreenkoms was ook vals?” Sy herken nie haar
rou stem nie.
“Ja, ongelukkig.” Haar pa lyk vir die eerste keer ongemaklik. “Ek het ’n
paar vervalsers tronk te gestuur, dit is nie moeilik om hul kollegas op te spoor
nie.”
“Hoekom?” Haar vraag is ’n snikkreet.
Haar ma antwoord. “Ons kon nie toesien hoe jy jou toekoms op ’n
mynwerker vermors nie. Dink jy jy sou die suksesvolle prokureur gewees het
wat jy vandag is as jy met hom getrou het? Hy is dalk nou vermoënd, maar
die kans dat hy vir altyd ’n mynwerker sou bly, was groter, en waar sou dit
jou gelaat het? In ’n eenvoudige mynhuisie met ’n dosyn snuiters? Ons het
groter drome vir jou gehad, en jy het almal met ons hulp laat realiseer. Net
jammer jy het jou verhouding met Hanro verbreek. Ons glo steeds hy is die
regte man vir jou.”
Sonika skud haar kop verdwaas. “Het julle ooit gewonder oor wat ek wil
hê? Miskien verbaas dit julle, maar my droom was nie soseer om ’n
suksesvolle beroep te hê nie, eerder ’n gelukkige getroude lewe met iemand
wat my onvoorwaardelik sou liefhê. Alles waarvan ek hier so min ontvang
het.”
“Moenie melodramaties raak nie,” betig haar pa haar. “Jy weet nie
waarvan jy praat nie. Ons metodes om jou te beskerm, was moontlik nie so
korrek nie, maar ons is nie spyt daaroor nie.”
“Nie korrek nie? Ek noem dit bedrog en julle wil dit goedpraat? Watter
etiese kode volg julle?”
“Die kode van ouers wat kinders teen hul eie foute beskerm. Die dag
wanneer jy kinders het, sal jy verstaan.”
“Julle optrede het veroorsaak dat ek dalk nooit kinders sal hê by die man
wat ek werklik liefhet nie. En waaroor ’n aborsie? Daar was nie eens sprake
daarvan nie!”
“Dit was die enigste manier hoe ons kon verseker dat hy nie met jou in
aanraking sou kom nie. Ons het geweet dat hy jou so iets nie sou vergewe nie
en daarom het ons ook klem gelê op die klasseverskil omdat dit klaarblyklik
ook vir hom ’n sensitiewe saak was. Ons was reg bewys. Dat hy nou ná al die
jare weer kontak moes maak, was nie deel van die plan nie.”
“Is julle nie eens ’n klein bietjie spyt oor julle inmengery nie?” Sonika
besef sy smeek om ’n skulderkenning van haar ouers se kant af, want die
teendeel is te moeilik om te verwerk.
“In herbesinning is ons antwoord ongelukkig nee.” Haar pa se bondige
antwoord is eens te veel vir Sonika. Sonder ’n verdere woord hardloop sy uit
en buite die huis beweeg sy in Monique se besorgde omhelsing in. Die trane
wat sy gedink het nie meer daar is om te stort nie, deurweek haar vriendin se
bloes.

“Middag, Sonika. Jy het ’n boodskap gelos dat ek jou bel. Jammer ek kom
nou eers terug, ek was in Londen.”
“Graeme, ek moet met Michael praat. Ek kan hom glad nie in die hande
kry nie. Jy moet my asseblief help.” Sonika besef sy is by breekpunt. Dis ’n
week sedert haar gesprek met haar ouers en in die tyd moes sy nie net
Michael se ontoeganklikheid verwerk nie, maar ook daaglikse oproepe van
haar ouers, wat probeer om die probleme tussen hulle uit te stryk. Sy kon nog
nie eens hul verraad verwerk nie, hoe moet sy by vergifnis uitkom?
Intussen het sy die brandende verlange na Michael se teenwoordigheid. Sy
moet sake tussen hulle regstel. Soveel kosbare tyd is gemors omdat sy die
verkeerde mense vertrou het. As sy net dink waardeur sy moes gaan, die pyn,
die selfbejammering, die depressie. Haar ouers was bereid om haar
selfvernietigingsproses te aanskou sonder om ’n reddende hand uit te steek.
En sy het gedink sy ken hulle.
En Michael? Hy het haar nooit verraai nie. Hy het net so seergekry soos sy.
Al waaraan sy nou nog kan vashou, is die gedagte dat hy nog iets vir haar
moet voel. Waarom anders sou hy teruggekom het? Haat wel, maar sy
optrede die afgelope ruk bevestig dat hy ook moes besef dat daar nog iets
tussen hulle is. Daarom moet sy met hom praat. Sy moet weet of hy hulle
weer ’n kans sal gun.
“Hy is ongelukkig in ’n onvoorspelbare bui. Sover ek weet, het hy vir ’n
onbeperkte tyd verlof geneem. Wil jy met hom oor die inhoud van die
koevert praat?”
“Ja, dringend ...”
“Ek sien in vanoggend se koerant jou pa het as regter bedank vanweë
huislike omstandighede?”
Sy sug. Die besluit van haar pa kompliseer sake nog verder, haar ouers kan
seker nie duideliker hul spyt oor die misleiding toon nie. “Dis sy manier om
verskoning te vra vir sy optrede, ek wil nie meer as dit sê nie.”
“Ek dink ek verstaan. Ek het vanaand sesuur ’n afspraak met Michael by
sy huis. Ek sal die sekuriteitswag inlig jy moet namens my dokumente kom
aflewer. Onthou net, jy het een kans, en ter wille van ons albei se oorlewing,
moet dit nie verbrou nie.”
“Asseblief, wat dink jy van my?” kan sy nog spot. “Ek is juffrou
Rasioneel, vra my kollegas.”
“Miskien, maar ek het nog min daarvan in sy teenwoordigheid gesien.”

Sonika vryf haar swetende hande teen haar wit rok. Om deur die sekuriteit te
kom, was die maklike deel, die moeilikste deel lê nou voor. Monique het haar
voor die hoofingang afgelaai. Sy was baie optimisties oor die uitkoms, want
sy het geglo Sonika sou óf met haar sportmotor terugkeer óf verkieslik glad
nie, en Sonika kon net hoop sy is reg. En nou is sy hier en sy was nog nooit in
haar lewe so benoud nie.
Sy kry hom op sy stoep wat oor die stad uitkyk. Hy is diep ingedagte en is
nie bewus van haar teenwoordigheid toe sy stadig met die kanttrappe opstap
nie. Hy leun teen die glasskuifdeur met sy hande in sy broeksakke. Hy het ’n
wit hemp en ’n donkerblou langbroek aan en nog nooit het hy vir haar
aantrekliker gelyk nie. Miskien is dit omdat sy besef sy kon hom verloor het.
Geen saak was ooit so belangrik soos dié een nie. Haar toekoms is op die spel
en sy is vasbeslote om as oorwinnaar daaruit te tree.
Sy bereik die boonste trap. “Michael ...” Haar stem is sag, pleitend.
Hy draai stadig in haar rigting. Dan sien sy die grysheid van sy gelaat. Dit
laat haar hoopvol voel, miskien ly hy net soos sy. ’n Vlugtige oomblik
verbeel sy haar sy sien blydskap in sy oë, maar die emosie word vinnig agter
’n afsydige houding verskuil.
Sy gaan staan op die boonste trap en vroetel met die dokumente in haar
hand. Sy het geweet hy gaan dit vir haar moeilik maak, hy het ook sy trots.
Sy waag ’n tree nader. Haar hart klop in haar keel en sy lek benoud oor haar
droë lippe.
“My pa het die brief laat opstel, ek het nooit daarvan geweet nie.” Sy
sfinksagtige liggaamshouding toon geen reaksie op haar skor woorde nie.
“Wie het dit vir jou gewys? Ek het gesien dis weg.” Ook sy stem is
leweloos.
“Graeme ...”
“Ek het so vermoed, en hy het seker ook gereël dat jy toegang tot my plek
kry?”
Sy knik. Sy soek naarstig na ’n klein bietjie sagtheid in sy oë, maar daar is
niks nie en sy woorde bevestig dit. “Nou sê jou sê dat jy kan gaan.”
“Daar was geen aborsie nie, want daar was geen swangerskap nie. Jy kan
my ouers se huisdokter bel, hy sal dit bevestig. Ek het die tekens verkeerd
gelees, maar my ouers wou my nie toelaat om jou in te lig nie. Hulle het gesê
hulle sou dit self doen en dat ons ná die eksamen saam daaroor kon praat.
Hulle wou verhoed dat ons trou, vandaar die brief. My pa het dit laat opstel.
Hulle het my vertel dat jy ’n halfmiljoen rand aanvaar het om uit my lewe te
bly. Ek het die sogenaamde gewisselde tjek gesien, ook ’n dokument wat
deur my ouers opgestel is. Ek het jou en Elise probeer bel, maar julle het
verdwyn ... wat kon ek anders glo ...” Sy sluk swaar. Die pyn van die
ondraaglike herinneringe brand in haar bors.
“En daarom die halfmiljoen rand se ring?”
Sy knik weer en stap nog nader. Hy beweeg nie. “Hulle het ons albei
mislei. Ek is jammer ek het jou nie vertrou nie.”
“Goed. Ek aanvaar jou verskoning.” Hy vou egter sy arms ongenaakbaar
voor sy bors en kyk weg in die rigting van die stad. Sy profiel word skerp
teen die blou lug afgeëts. “Was daar nog iets?”
Haar moed wil haar begewe ten aanskoue van sy voortgesette hardvogtige
houding. Sy byt egter vasbeslote op haar lip, sy is bereid om die pad van
vernedering te stap. Trots gaan nie die finale vernietigingswerk voltooi nie.
Sy hou die dokumentasie in haar hand uit na hom. “Ek wil ’n ooreenkoms
met jou aangaan.”
“Ek luister.” Sy oë is steeds op die uitsig.
“Wil jy dit nie lees nie?”
“Jy kan dit opsom.”
Sy sit die dokumente op die naaste tafel neer en tree weer nader. Sy steek
’n versigtige hand uit en sit dit teen sy bors. Hy draai sy kop terug en staar
haar met sy onpeilbare blou oë aan. Sy voel sy onreëlmatige hartklop en dit
weerspreek sy afsydige houding. Hy beweeg ook nie weg nie. Sy skep nuwe
moed.
“Ek is bereid om ’n huweliksooreenkoms met jou te sluit. Wag!” keer sy
enige repliek deur ’n vinger voor sy lippe te plaas, “maar op my
voorwaardes.” Sy glimlag toe sy die verbysterde uitdrukking op sy gesig sien.
Sy voel weer in beheer en waag dit om sy onderlip met haar vinger te terg
voor sy voortgaan. “Jy voorsien vir ’n onbepaalde termyn finansiering aan
die Vroueregskliniek in die stad.”
’n Spiertjie spring in sy wang. Haar duim trek die beweging na.
“Jy het uitgevind?”
“Graeme het my vertel.”
“Is daar iets waaroor hy jou nie ingelig het nie? Soos my bankbalans?” Sy
steur haar nie aan sy kil woorde nie, sy proe die soet smaak van oorwinning.
Die warm hoop in sy oë het hom klaar verraai.
“Hy hoef nie, jy sal dit mettertyd self doen,” terg sy. “Ek is nog nie klaar
nie. Ons ooreenkoms sluit gedeelde behuising en my sportmotor in, maar
finansieel dra ek my deel by.”
Sy vou haar arms om sy nek. Hy laat sak sy arms, sy liggaam ontspan vir
die eerste keer. Sy gebruik die toegewing om haar liggaam teen syne te vly.
“Verder voorsien jy volle onderhoud tydens en ná my swangerskappe en
verkieslik net twee, maar dis onderhandelbaar, tot ek gereed is om weer die
beroepswêreld te betree.”
Hy staar haar ’n ewigheid aan, dan vra hy met ’n hees stem: “Is dit dalk ’n
huweliksaansoek?”
Sy haal haar skouers verskonend op. “Ek is ’n geëmansipeerde vrou, maar
ek is bereid om jou van te aanvaar, ongelukkig net in my persoonlike
hoedanigheid.”
’n Halwe glimlag verskyn om sy mond, sy lippe is skielik naby hare. Sy
arms vou besitlik om haar middellyf. “Wat kry ek hieruit?”
“’n Toegewyde vrou wat ontsaglik lief is vir jou en ’n prokureur wat vier
en twintig uur tot jou beskikking is,” fluister sy die belofte teen sy lippe.
“As ervare sakeman kon ek nog nooit ’n goeie sakegeleentheid laat
verbygaan nie. Ek aanvaar jou voorwaardes.” Sy lippe raak aan hare, saggies,
koesterend. Dan kyk hy op en die liefde in sy oë maak haar lam. Sy stem is
skor. “Sons, ek is so lief vir jou. Ek het nog nooit opgehou nie. Jy weet nie
hoe leeg my lewe sonder jou was nie. Ek is ook jammer, ek moes jou pa nooit
geglo het nie, maar ek het altyd met die stuk twyfel in my gesit of ek regtig
goed genoeg is vir jou. En die brief in jou handskrif. En toe julle boonop
Londen toe vertrek het ...”
Sy streel die pyn op sy gesig met haar hande weg. “Net na my tannie toe,
om geen ander rede nie. Maar as ek nou daaroor dink, was dit seker deel van
die illusie wat geskep is. Dis verby, kom ons probeer daarvan vergeet. Ons
het albei skuld. Al wat nou van belang is, is ek en jy, en jy sal nooit weer oor
my hoef te twyfel nie.”
Sy trek sy kop nader. Sy lippe is dwingend, eisend, en sy betaal
gehoorsaam die prys.
“Wag.” Sy druk skielik teen sy bors en haal ’n ring uit haar roksak.
“Ons eerste verloofring ...”
Sy hou haar hand uit. “Ongelukkig pas dit net aan my pinkie, dit was altyd
’n bietjie te klein. Jy kan dit vir my aansit en ek sal dit nooit weer afhaal nie.”
Haar glimlag verstar toe hy haar hand vat. “Jy dra nog jou ring?” vra sy
oorbluf.
“Ja, ons mag onder valse voorwendsels die verlowing aangegaan het, maar
my verbintenis tot jou is so seker soos hierdie ring aan my vinger, en ek
beoog nie om daarop terug te gaan nie. Ek het jou ander ring, ek dra dit sedert
Saterdag by my.” Hy haal die ring uit sy broeksak. “Kan ek dit ook aansteek,
behalwe as jy ’n ander ring wil kies?” Haar verontwaardige reaksie is
voldoende antwoord. “Nou sal niemand twyfel jy is myne nie. Is jy kwaad
oor my inmengery met jou nuwe werk?” Hy klink angstig.
“Miskien aanvanklik. Jou optrede het my egter weer hoop gegee. Hoop dat
jy my hier by jou wou hou omdat jy nog lief is vir my. Terselfdertyd het jy
die geleentheid geskep waaroor hulle baie gedroom het en nog nooit die
fondse kon kry nie. Hier is baie minderbevoorregte vroue wat ek kan help, en
nou kan ek ten volle my groot werkpassie uitleef. Op die ou end bly dit my
besluit en maak nie saak of dit hier, in Kaapstad of Londen is nie, ek kan
enige plek werk, solank ek net by jou is.”
“Ek het jou doen en late gevolg terwyl ek in Londen was.” Sonika se oë
rek en hy glimlag bedees. “Toe ek ’n koerantknipsel met ’n foto van jou en
Hanro kry, het ek besluit ek moet terugkom. En om jou vraag van vroeër te
beantwoord – ja, ek het gekom om wraak te neem. Ek het deur Graeme gereël
dat Paul ingelig word dat ons nuwe prokureurs soek. Ek het van die begin af
geweet ek gaan die besigheid vir julle gee en het net voorgegee dat julle een
van vele is wat ons oorweeg. Die gebeure in my kantoor tydens die opening
het dit net maklik gemaak om mag oor jou te kry. Maar hoe meer ek in jou
teenwoordigheid was hoe meer het ek besef my liefde vir jou was steeds
groter as enige haat wat ek rondgedra het oor dit wat ek gedink het jy my
aangedoen het.” Hy glimlag wrang. “Angela was woedend vir my ná die
verlowingsgeselligheid, en daardie aand het ek besef ek bluf myself, dat die
haat wat ek gedink het ek koester eerder ’n obsessie met jou was waarvan ek
nooit ontslae sou raak nie. Ongeag wat in die verlede gebeur het, wou ek jou
terughê en was ek bereid om enigiets te doen om dit reg te kry. Dinge het
daarna so goed gelyk, ek het geglo daar is weer ’n toekoms vir ons, maar
daardie aand by my huis sê jy toe jy wil my nie meer sien nie en daarna die
aantygings wat jy ontken het. Dié gedagte wou my mal maak!”
Sonika kyk pleitend na hom, haar stem is sag. “Ek wou myself teen
verdere seerkry beskerm deur afstand van jou te kry. Jou aantygings het my
fondament onder my uitgeruk, ek kon nie glo dat jy ooit sou dink ek sal ’n
aborsie oorweeg nie.”
Hy trek haar nader, leun met sy voorkop teen hare. “Ek wou dit nie glo nie,
maar ná jou brief kon ek nie anders nie. En nou maak alles sin, ek kan net nie
glo jou ouers het so ver gegaan om ons uitmekaar te hou nie.” Hy beweeg
effens weg, sy bekommernis duidelik in sy oë. “Dink jy hulle sal my ooit
aanvaar?”
Haar hande wat deur sy hare woel, word stil. “Hulle sal. Hulle het berou en
is bereid om reg te maak waar hulle verbrou het, my pa wil dit juis bewys
deur sy bedanking as regter. Ek weet nie wat van my verwag word nie, al wat
ek weet, is veilig in jou arms is ek bereid om enigiemand enigiets te vergewe.
Die vergifnis wat ek jou wou gee, kan ek miskien na hulle verplaas, tyd sal
leer ...”
“Ek sal jou in daardie besluit help.” Hy soen haar tydsaam en sy oë is
helderblou toe hy weer opkyk. “Jou teenwoordigheid hier het my heeltemal
onkant betrap. Ek was juis nou besig om te beplan hoe ek jou die naweek kan
ontvoer na die woonstel in die Kaap en ek sou jou nie laat gaan het voor ons
sake deurgewerk het nie. En herinner my om Graeme ’n spesiale bonus vir sy
inmengery te gee.” Hy wys na die koevert op die tafel. “Is dit regtig ’n
ooreenkoms?”
Sy glimlag. “Miskien nie presies in dieselfde terme nie, maar wel ’n
voorhuwelikse kontrak. Ek wil nie die indruk wek dat ek oor jou geld met jou
gaan trou nie,” spot sy.
“Ek gee nie om nie, ek vat jou op enige terme.” Met sy lippe teen haar nek
en sy asemhaling onreëlmatig, vra hy: “Kom ons trou môre, ek wag al ’n
ewigheid om jou my vrou te maak.”
Sy word meegesleur deur emosies en dis moeilik om rasioneel te bly. “So
graag soos ek wil, skuld ons Elise haar groot troue en ek beoog om die
Jessicas van die wêreld na behore te wys jy behoort nou aan my.”
Hy glimlag ongemaklik. “Ek gaan nie verskoning maak oor my vorige
verhoudings nie. Ek kan jou egter die versekering gee ek het nie een van
hulle ooit onder ’n wanindruk gebring nie, en dit sluit Jessica in. Ek was op
’n vrugtelose soektog na ’n plaasvervanger vir jou.” Hy glimlag sardonies.
“Verkieslik iemand wat nie naastenby soos jy lyk nie.” Sy glimlag verdwyn.
“En wat van Hanro?”
Sy glimlag. “Vergeet van Hanro. Hy kon nooit jou plek inneem nie, maak
nie saak hoe hard ek probeer het nie. En moenie dit waag om my oor Kobus
te vra nie, dit bestaan net in jou verbeelding.”
Hy lag tevrede. “Kom, ek het ’n geskenk vir jou.” Opgewonde trek hy haar
met die trappies af en stap in die rigting van sy motorhuis.
Sy stap vinnig nader toe sy haar sportmotor langs sy ander voertuie sien.
“Nee, daar!” Hy beduie na die hoek. Twee pikswart Harley-Davidsons
pronk langs mekaar.
Sy kyk verdwaas na hom en dan na die fietse. “Is een myne?” Sy lag
opgewonde. “Weet jy hoeveel jare laas het ek motorfiets gery? Nadat jy weg
is, het ek nooit weer kans gesien om op een te klim nie. Die herinneringe was
net te pynlik ...” Sy haal diep asem. “En daar is nog so baie wat ek jou oor
daardie dae wil vertel.”
Hy trek haar nader. “Later. Ek het die wonderlikste idee vir ’n wittebrood.”
“’n Vakansie op ’n eiland?”
“Nee, te vervelig. Iets meer uitdagends. Wat van ons toer deur die land op
ons motorfietse en bly dan in die Kaap oor tot ons moeg raak vir die see?”
“Klink goed. ’n Maand hier op ons eie weggesluit agter die hoë mure sal
ook werk,” korswel sy. Sy trek sy kop nader. “Enigiets, solank ek dit net
saam met jou doen,” fluister sy. Haar toekoms het nog nooit so opwindend
gelyk met die man van haar drome aan haar sy nie, dink sy toe sy mond aan
hare raak.
© Teks: Susan Olivier 2018
© Publikasie: LAPA Uitgewers (Edms.) Bpk.
Bosmanstraat 380, Pretoria
Tel: 012 401 0700
E-pos: lapa@lapa.co.za
Omslagontwerp: LAPA Uitgewers
eBoek geskep deur Fullk Circle
www.fullcircle.co.za
ISBN 978-0-7993-8783-4 (gedrukte boek)
ISBN 978-0-7993-8784-1 (ePub)
ISBN 978-0-7993-8785-8 (mobi)
© Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier
gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers nie.
Table of Contents
Titelblad
Ook deur Susan Olivier
Bod op ’n biljoenêr
Een
Twee
Drie
Vier
Vyf
Ses
Sewe
Agt
Nege
Tien
Elf
Twaalf
Dertien
Kylie se keuse
Een
Twee
Drie
Vier
Vyf
Ses
Sewe
Agt
Nege
Tien
Elf
Twaalf
Epiloog
Verborge obsessie
Een
Twee
Drie
Vier
Vyf
Ses
Sewe
Agt
Nege
Tien
Elf
Twaalf
Dertien
Kolofonbladsy

You might also like