You are on page 1of 9

Christina

Christina was een van my heel eerste modelle. Ek het pas


met PixelPro begin, en ek moes so ʼn paar sessies verniet
weggee om my nuwe onderneming te bemark. Christina
het een van hierdie sessies by ʼn Vrouedagviering gewen.
Ek was self nog aan die uitpluis hoe om die sessie
te reël en die modelle te hanteer, en Christina was, al het
sy dit nie besef nie, so ʼn bietjie van ʼn proefkonyn.
Dis nie dat ek nie geweet het hoe om die foto’s te
neem nie, dit kon ek doen en daarmee was ek gemaklik.
Maar die reëlings het hul eie uitdagings gestel, het ek
mettertyd besef.
Ek het self met Christina oor die foon gesels toe
sy die afspraak maak. Ek doen dit nie meer nie, eerstens
omdat ek nie goed is met admin nie, maar ook omdat dit
gewoonlik vir die modelle makliker is om met ʼn vrou te
gesels as hulle die eerste keer bel. Ek is nie seker hoekom
dit so is nie – miskien is dit gewoon gerusstellend om te
weet daar is vroue in hierdie proses. Dis asof die
teenwoordigheid van vroue die seks uit die ding haal en
dit meer in die rigting van ʼn makeover stuur.

34
So bel Christina. Sy babbel. Sy het die Vrouedagding
bygewoon en toe die fotosessie in haar geskenkpak gekry
en sy het nog nooit so iets gedoen nie en sy wou eers die
sessie vir haar sussie gee, maar haar sussie is getroud en
sy is nie seker haar swaer sal daarvan hou nie en toe wil
sy dit vir haar beste vriendin gee maar toe sê die vriendin
nee sy moet self kom en sy was nie seker of sy dit moes
doen nie maar die vriendin het gesê al kom sy net vir die
makeover is dit ook al genoeg want sy doen so min vir
haarself en toe besluit sy sy bel nou maar en hoor of daar
ʼn opening is.
Teen die tyd dat haar sin klaar is, is ek skoon
uitasem. En op die rand van ʼn kopseer. Ek hou van ʼn
vrou wat kan gesels, maar ek cope nie goed met babbel
nie.
Ja, verseker ek haar, ons kan haar inpas.

O jissie sy het gehoop daar is nie plek nie dan is dit ʼn


teken dat sy nie moes kom nie want sy weet nou nie …
“Dis jou keuse of jy wil kom of nie, Christina. Dis
nie bedoel om ʼn straf te wees nie,” sê ek. Ek wil nou ook

35
nie my kosbare tyd op iemand mors wat hoegenaamd nie
daarin belang stel nie.
Jaaa, dis net … Sy’s ʼn onderwyseres en sy weet
nou nie eintlik wat die mense gaan sê as dié foto’s uitlek
nie …
Iets kliek. “Niemand buiten jy sien die foto’s nie,
Christina. Ek plaas geen foto’s van jou op enige
sosialemediaplatform sonder jou toestemming nie. Die
enigste manier hoe mense hierdie foto’s gaan sien, is as
jy dit vir hulle wys.”
Dit stel haar effens gerus. Goed, sy sal kom. Die
volgende Woensdag. Kan sy namiddag kom, sy het direk
ná skool ʼn vergadering met ʼn ouer?
Ons spreek ʼn tyd af, ek e-pos die aanwysings na
die huis, en sy bevestig dat sy kom.
Die volgende dag bel sy om die afspraak te
kanselleer.
ʼn Uur later bel sy om dit weer te maak.
Die volgende dag stuur sy ʼn e-pos met omtrent
sewehonderd redes waarom sy nie die fotosessie behoort
te hê nie en vra my om haar te verseker dat alles goed sal
afloop.

36
Ek begin my vervies vir die spulletjie. ʼn Sexy makeover is
ʼn groot prys. Dit kos ʼn paar rand as jy dit self moet
betaal, en ek en my grimeerkunstenaar gaan dit verniet
vir haar doen. Dié vrou gaan aan asof ek haar skelm aan
die Hustler probeer verkwansel. Maar dis bemarking, ek
kan my nie wip en haar in haar moer stuur nie. Daarom
bestee ek nog ʼn halfuur van my lewe daaraan om haar
gerus te stel. En heimlik begin ek dink aan alles wat ek
dié Woensdagmiddag op kantoor kan afhandel as sy nie
opdaag nie.
Teen Woensdag is my senuwees net so rou soos
Christina sʼn. Ek bel haar die oggend om seker te maak sy
kry nie koue voete nie, maar haar foon lui net. Sy hou
skool, weet ek, maar daar is darem seker pouses. Sy kon
mos nou al teruggebel en net bevestig het.
Teen vieruur is ek by die huis waar ons die foto’s
neem, maar Christina is nêrens in sig nie. Sy’s laat. Dié
laat weet sy darem – die ouer met wie sy die vergadering
gehad het, was moeilik en het langer gebly as wat sy
gedink het.
Teen die tyd dat sy daar opdaag, is my
grimeerkunstenaar knorrig en my eie lont kort. Maar ek

37
hou my in, dis bemarking. Nie dat ek weet hoeveel
bemarking ons uit haar gaan kry nie, dié ek-is-ʼn-juffrou-
niemand-mag-my-sien-nie-kandidaat.
Ieder geval kom sy toe daar aan. ʼn Regte juffrou.
Ek weet nie hoe om vir jou te sê hoe ʼn juffrou lyk
nie, maar ek kan vir jou sê Christina lyk soos een. Selfs al
ken ʼn mens haar glad nie, sou jy steeds dadelik weet sy is
ʼn onderwyseres.
Alles aan haar is onopvallend. Sy is nie lank nie,
nie kort nie, nie vet nie, nie maer nie. Haar hare is nie
lank nie, dis nie kort nie, dis nie blond nie, dis nie donker
nie. Sy dra nie grimering nie, buiten lipstiffie, en sy het ʼn
donkerblou romp en grys trui aan. Op haar groterige
neus sit ʼn groterige bril. Haar hande begin knopperig
raak om die kneukels en sy dra geen juwele nie.
Vaal. Daar is nie ʼn ander woord nie.
Ek stap uit om haar te gaan ontmoet, en my hart
sak verder toe ek die klein Woolworths-pakkie sien. Sy
het een stel onderklere gebring. Nuwes, wat sy
waarskynlik pas gekoop het. Ek weet sommer Christina
dra normaalweg vleeskleurige T-hempbra’s sodat sy nie

38
op ʼn koue dag per ongeluk ʼn nipple stand voor die seuns
kry nie.
Dis toe sy by my kom en klaar met haar handsak
se knip gepeuter het, dat sy opkyk, reguit in my oë in. En
ek amper agteruit steier.
Blou. So blou soos die blou in die outydse
porseleinkoppies wat my ma in haar kas bêre en waaruit
ons net met ʼn doop en nagmaal mag tee drink.
Hemelhelderblou.
Skielik is my moegheid en knorrigheid weg. In
daardie oomblik weet ek presies wat ek met haar wil
doen en presies wat ek aan haar wil gee. Hierdie blou is
te spesiaal, te mooi en te eg dat dit onder die vaal
weggesteek bly.
Ek laat haar in Denize se bekwame hande om
haar grimering te doen terwyl ek solank die kamer opstel
en seker maak die beligting is reg.
Denize verrig wondere met die grimering en die
hare, maar Christina kan net nie ontspan nie. Teen die
tyd dat sy uit die badkamer kom, met die japon onder
haar gorrel vasgeklem en haar ander hand styf oor haar

39
midderif gevou, weet ek ek gee nie meer ʼn makeover weg
nie, ek moet vir hierdie vrou haar menswees teruggee.
Ek posisioneer haar op die bed, eers met die
japon aan. Ek neem ʼn paar skote van haar gesig, net om
vir haar te wys waaroor dit gaan.
So tien foto’s in die sessie in laat ek haar regop
sit. Ek gaan sit langs haar op die bed en blaai saam met
haar deur die foto’s. Aanvanklik hoor ek hoe sy haar
asem intrek, maar teen die laaste foto is sy tjoepstil.
“Wat dink jy, Christina?”
Ek kyk op na haar. Langs my is die oë donkerblou
in haar wit gesig. “Dis nie ek nie,” fluister sy skor.
“Dis jy,” sê ek rustig. “Kyk weer.”
Sy kyk weer, en weer, en toe nog ʼn keer.
Uiteindelik voel ek hoe die bed begin skud. Denize kom
in met snesies en poeier en oogdruppels om die rooi te
kamoefleer.
Ons het die sessie klaargemaak, daar was selfs ʼn
paar waar Christina bereid was om sonder haar bra op
die bed te lê. Op haar maag, ter wille van die skool, maar
duidelik en uitdruklik sonder ʼn bra.

40
Op een, hier teen die einde, toe sy vergeet het van die
bang en die vaal en die gewoon, kon ek een van haar
neem wat ʼn mens aan ʼn modetydskrif sou kon verkoop:
ʼn skalkse glimlag, hare wat sensueel oor haar voorarm
tuimel en ʼn paar kobaltblou oë wat reguit en onbevrees
in die lens inkyk.
Toe dit klaar is, het sy haar goed vinnig opgepak
en uitgestap kar toe. Sy het nie veel gesê nie, net gegroet
en geglimlag, maar dit was al asof die krom weg was uit
die skouers.

Die aand laat kry ek ʼn e-pos.


Beste Albert. Ek is agt en dertig. Die eerste
en enigste keer wat ek my klere vir ʼn man
uitgetrek het, was op universiteit. Hy het gevat
wat hy wou hê en toe geloop sonder om weer
van hom te laat hoor. Nou werk ek by die skool.
Met kinders. Mense van my ouderdom is
getroud. Mans van my ouderdom is getroud. Of
gay. Ek het nie gedink dit was nodig om tyd of
geld op myself te bestee nie, want ek is nie die
moeite werd nie. Maar dis nie waar nie, weet ek

41
nou. Ek is mooi. Ek het twintig jaar lank geglo
dis veiliger om te aanvaar ek is middelmatig as
om te probeer mooi wees en weer verwerp te
word. Vandag weet ek dis nonsens. Ek is mooi en
ek mag dit maar glo en ek mag maar leef asof ek
my eie aandag en tyd werd is.

Die volgende dag tag sy my op Facebook. “As jy


ooit nodig het om in jouself te glo, bespreek vir jou ʼn
fotosessie by Albert Bredenhann” is die onderskrif by die
foto van die oë.
Binne vier-en-twintig uur like amper driehonderd
mense die foto. Omtrent almal aan haar skool verbonde.

42

You might also like