You are on page 1of 34

KABV

Eenvoudig briljant!

• Briljante NKABV-dekking (CAPS) en geskryf deur kundige


outeurs
• Briljante illustrasies en aktiwiteite sal uitslae verbeter en
leerders motiveer
• Briljante onderwyserondersteuning, o.a. fotokopieerbare
werkvelle, kontroletoetse en ’n Vraagbron CD-ROM, maak
voorbereiding vinnig en onderrig maklik
• Briljante + gehalte = sukses!
Afrikaans Huistaal
Graad 11

Kontroletoetsboek

http://schools.pearson.co.za

I S B N 978-0-636-13777-6

9 780636 137776

M A S K EW MI LL E R L O N G M AN

9780636137776_plt_lan_ctb_g11_afr_za_cvr.indd All Pages 2014/11/07 7:30 AM


Graad 11
AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS EEN
Punte: 40

VRAAG 1

Bestudeer die onderstaande advertensie sorgvuldig en volg die instruksies by die vrae. Onthou
om reëls oop te laat tussen antwoorde.

1.1 Wat word geadverteer? (1)

1.2 Waar kan die geadverteerde produk gekoop word? (2)

1.3 Wat is die slagspreuk van die plek wat die advertensie plaas? (1)

1.4 Wat is die doel van die advertensie? (2)

1.5 Wie is die teikenmark van die advertensie? (Die antwoord moet spesifiek wees.) (2)

1.6 Watter tyd van die jaar word sulke advertensies gewoonlik geplaas? (2)

[10]
VRAAG 2

Lees die onderstaande artikel deur en skryf die maniere waarop jy jou teen ID-diefstal kan
beskerm neer. Maak ’n puntsgewyse opsomming daarvan in nie meer as 90 woorde nie.

LET WEL

• Telegramstyl/SMS-styl is onaanvaarbaar.
• Jou antwoord moet puntsgewys en so ver moontlik in jou eie woorde aangebied word.
• Gebruik die titel: Beskerm jou so vir jou opsomming.
• Die woorde van die titel moet nie in berekening gebring word nie.
• Skryf die getal woorde wat jy gebruik onderaan jou stuk neer.
• Onthou: elke sin moet EEN feit insluit.

Beskerm jou so

Gaan gereeld jou kredietprofiel by die kredietburo na. Slagoffers ontdek gemiddeld veertien maande
na ’n diefstal dat daar probleme is.

Moenie ID-boekies, afskrifte daarvan en persoonlike inligting laat rondlê nie. Dit is agterlosig en
voorspel gevaar.

Meld onmiddellik diefstal of verlies van ID-boekies by die polisie aan, kry ’n saaknommer en stel jou
bank en almal by wie jy ’n rekening het, in kennis. Jy kan by SAFPS registreer om bedrog met ID-
besonderhede te verhinder. Hulle skakel met 90% van die finansiële instellings en handelaars.

Stel dadelik ondersoek in as jy skielik nie meer jou gereelde rekeninge ontvang nie, en moenie jou
ID-besonderhede aan enige persoon verskaf nie (skriftelik, telefonies of oor die internet) tensy dit
noodsaaklik is en jy seker is van ’n organisasie se betroubaarheid. Die gewoonte dat almal afskrifte
maak van jou ID, is sommer twak. Dieselfde geld vir jou kredietkaart. Waar dit geregverdig is, kan jy
bloot jou ID-boekie vir mense wys sodat hulle kan kyk dat jy werklik is wie jy sê jy is.

Jy is geensins verplig om jou ID-nommer aan almal met wie jy sake doen, te verskaf nie. Moet nooit
jou ID-nommer oor die internet verskaf as jy bloot iets van ’n kleinhandelaar koop nie.

Wees versigtig in jou werkomgewing. Jou menslike-hulpbron-afdeling moet jou ID-nommer hê, maar
dit moenie op lyste wees wat aan almal versprei word nie. Moet ook nooit jou ID by byvoorbeeld
sekerheidswagte los nie, al sou hulle dit van jou eis.

Uit: Huisgenoot, 25 Oktober 2007

[10]

2
VRAAG 3

Lees die onderstaande advertensie deeglik deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

Getoets voor jy dit toets


Wanneer jy ’n produk koop met die SABS-goedkeuringsmerk, kan jy gerus wees
dat die produk aan streng toetse onderwerp is. Dit bring mee dat jy topgehalte
produkte kan koop wat ook aan die strengste denkbare veiligheidsvereistes
voldoen. Ons gaan met trots objektief, geloofwaardig, betroubaar en deeglik te
werk. Vir volkome gemoedsrus, wees op die uitkyk vir die SABS
goedkeuringsmerk.

www.sabs.co.za

3.1 Herskryf die kop van die advertensie en voeg twee woorde voor “Getoets”. (1)

3.2 “Wanneer jy die produk koop, kan jy gerus wees.”

Brei die werkwoord met ’n bywoordelike bysin uit. (2)

3.3 Na wie verwys “jy” in die kop van die advertensie? (1)

3.4 Gee die meervoud van “goedkeuringsmerk”. (1)

3.5 Waarvoor staan die afkorting SABS? (1)

3.6 Gee die vergrotende trap vir “betroubaar”. (1)

3.7 Waarom word SABS in groter letters geskryf? (1)

3.8 Die SABS verseker dat jy die (beter/beste) produk koop. Kies die korrekte woord. (1)

3.9 Skryf die volgende sin in die indirekte rede.

“Ons gaan met trots objektief, betroubaar en deeglik te werk,” sê die SABS-advertensie. (1)

[10]

3
VRAAG 4

Lees die onderstaande leesstuk vlugtig deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

Facebook

1. Deesdae het elke Jan Alleman en sy maat ’n profiel op Facebook en met die druk van ’n knoppie
kan ’n mens vriende en kennisse opspoor. Facebook het die alfa en die omega van elke
jongmens geword.

2. Wat aanvanklik as ’n student se stokperdjie begin het, is vandag die naasgrootste sosiale
netwerk op die internet. Sedert die begin van Facebook in Februarie 2004, het mense uit alle
lande begin aansluit.

3. Facebook word as ’n reuse-aanlynjaarboek beskryf. Mark se oorspronklike inspirasie vir


Facebook het ook gekom van die jaarboeke van foto’s en profiele van klasmaats wat
Amerikaanse universiteite en kolleges tradisioneel aan studente gee.

4. Wanneer ’n nuwe gebruiker registreer, moet hy of sy sekere vrae beantwoord om sodoende ’n


persoonlike webblad te skep. Die gebruiker kan besonderhede verskaf oor sy of haar
persoonlike inligting, belangstellings, voorkeure, idees en ook foto’s op die webblad (4.5) laai.
Die gebruiker kan self besluit hoeveel inligting hy of sy wil verskaf en beskik ook oor ’n
“skryfmuur” waar hy of sy gedagtes kan neerskryf.

5. Gebruikers kan dan na vriende of kennisse soek en versoek dat hulle as “vriende” by jou profiel
gevoeg word. Ander gebruikers kan opgesoek word deur onder die naam van ’n hoërskool of
stad te soek, maar ook deur op skakels soos “gunstellingmusiek” te kliek en dan deur gebruikers
met soortgelyke voorkeure te blaai.

6. Gebruikers kan ook private boodskappe aan mekaar stuur of mekaar poke, wat aan ’n ander
gebruiker ’n boodskap stuur dat hy of sy gepoke is en hom dan die opsie bied om terug te poke.

7. Facebook word deesdae deur sommige gebruikers as ’n aanlynafspraakdiens gebruik omdat


mense maklik ander mense met dieselfde belangstelling kan opsoek. Gebruikers kan ook by
groepe aansluit, nuwe groepe skep of aan gesprekke in bestaande groepe deelneem. Die
groepe waaraan ’n gebruiker behoort, kan ook by sy profiel gevoeg word, wat ’n goeie
aanduiding van sy of haar belangstelling, stokperdjies en standpunte oor sekere kwessies is.

8. Gebruikers kan aan “normale” en “geheime” groepe behoort. “Geheime” groepe word nie by ’n
gebruiker se profiel gevoeg nie en word vir (4.8) sluit gesprekke gebruik, soos studente wat
saam aan ’n projek werk.

9. Die meerderheid van groepe wat op Facebook geskep word, is egter vir pret en ontspanning
bedoel. Maatskappye kan ook groepe borg, soos die geval van Paramount Classics wat ’n
omgewingsbewuste groep op Facebook geborg het om sy rolprent An inconvenient truth te
bemark. Gebruikers is gevra om hulle daartoe te verbind om na die rolprent te gaan kyk. Dié wat
hulle hiertoe verbind het, is as groen bestempel en is vereer deur die plasing van hulle foto’s op
die groep se webwerf.

10. Talle maatskappye maak ook van hierdie funksie gebruik om hulle handelsmerke te bemark.

Aangepas uit: Vrouekeur, 14 September 2007

4
4.1 Verbeter die Afrikaanse uitdrukking wat in die eerste paragraaf verkeerdelik gebruik is. (1)

4.2 Wat word iemand genoem wat ’n innoverende nuwe besigheid begin? (1)

4.3 Waarom word die woord Facebook met ’n hoofletter gespel? (1)

4.4 Wat beteken die idioom: “die alfa en omega”? (1)

4.5 Gebruik die homoniem “laai” (paragraaf 4) in ’n kort verklarende sin. (1)

4.6 Brei die onderwerp met ’n byvoeglike bysin uit.

Gebruikers kan dan na vriende en kennisse soek. (1)

4.7 Korrigeer die spelfout in paragraaf 5. (1)

4.8 Vorm ’n adjektief van die werkwoord “sluit”. (Dit moet in die leesstuk pas.) (1)

4.9 Vertaal in goeie Afrikaans: An inconvenient truth. (1)

4.10 Waarom word na omgewingsbewuste mense as groen verwys? (1)

[10]

[TOTAAL: 40 punte]

5
Graad 11
AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS TWEE
Punte: 40

VRAAG 1

Lees die onderstaande advertensie sorgvuldig deur en volg die instruksies by die vrae. Onthou
om reëls oop te laat tussen antwoorde.

Nuut! Klubkaartvoordele!

In ’n deurbraak vir Suid-Afrika, kan Clicks Klubkaartlede nou hul voorskrifte by ENIGE Clicks Apteek
landwyd laat vul en afhaal.

Tot nou toe moes jy na die plaaslike apteek waar jy oorspronklik jou voorskrif laat vul het, terugkeer
vir enige herhaalvoorskrifte. Clicks stel nog ’n eerste vir Suid-Afrikaners bekend met hul nuwe
gesentraliseerde toegangsprogram – Klubkaartlede kan nou ’n voorskrif wat hulle by ’n plaaslike
Clicks Apteek ingedien het, by enige Clicks Apteek landwyd laat vul.

Gerief, veiligheid en besparing

Dat jy by enige Clicks Apteek jou voorskrif kan afhaal, het talle voordele. Jy kan jou
voorskrifmedikasie kry terwyl jy met vakansie is, weg van die huis op ’n sakebesoek, of as jy bloot by
’n ander winkelsentrum inkopies doen. Jy hoef ook nie bang te wees dat jou medikasie sal opraak
nie, aangesien enige Clicks-apteker onmiddellik toegang tot jou voorskrif het. Daarbenewens kan jy
munt slaan uit verlengde winkelure by ander Clicks Apteke indien jy dringend ’n voorskrif moet laat
vul. Die nuwe voordeel is ook veiliger: Jou Clicks-apteker kan jou algehele voorskrifgeskiedenis
nagaan en jou op grond daarvan die regte raad gee. As ’n ekstra bonus sal klubkaartlede nou
PlusPunte op die resepteringsfooi verdien (onderworpe aan apteek- en medikasiewetgewing).

Registreer nou!

Selfs al het jy reeds ’n Clicks Apteek vir jou voorskrifmedikasie gebruik, moet jy vir hierdie program
registreer. Dit is so maklik:

1. Gaan na jou plaaslike Clicks Apteek en vra jou Clicks-apteker om jou inligting op datum te kry.
Jy kan ook net jou Clicks Apteek bel en vra om te registreer.

2. Gee die apteker jou Clicks Klubkaartnommer en een van hierdie drie identiteitsopsies: jou
geboortedatum, jou ID-nommer of jou mediesefondsnommer. As jy nog nie ’n Clicks Apteek
gebruik het nie, mag hulle dalk jou kontakbesonderhede verlang.

3. Nadat jy geregistreer het, sal jou besonderhede onmiddellik bygewerk word en sal jy dadelik
hierdie nuwe voordeel kan benut.

As jy ’n Clicks Klubkaart-kredietkaart het, is die registrasieproses dieselfde – jou klubkaartnommer is


bokant jou naam op die kredietkaart. Jy kan ook ’n tydelike klubkaart gebruik as jy nog nie jou regte
kaart ontvang het nie. As jy nie ’n klubkaart het nie, doen nou aansoek! Aansoekvorms is in elke
Clicks Winkel te kry.

Uit: Huisgenoot, 6 September 2007

1.1 Skryf twee opeenvolgende woorde neer wat sê dat alle Clicks-takke met mekaar
verbind is sodat jy na enige tak kan gaan. (1)

6
1.2 Verduidelik die woord “deurbraak”. (1)

1.3 Waarom is die nuwe Clicks Apteke geriefliker en meer besparend volgens paragraaf 2? (2)

1.4 Wat maak die nuwe Clicks Apteke veiliger? (1)

1.5 Waarom wil die advertensie jou aanmoedig om so gou moontlik aan te sluit? (1)

1.6 Wat is die doel van die advertensie? (1)

1.7 Wie is die teikenmark van die advertensie? (Die antwoord moet spesifiek wees.) (1)

1.8 Noem TWEE maniere om jou identiteit te bewys as jy gaan om te registreer vir die
nuwe Clicks Kaart. (2)

[10]

7
VRAAG 2

In die artikel “Gedra jou, seremoniemeester” word gekyk na die moets en moenies van die
seremoniemeester se pligte by ’n troue.

Lees die onderstaande artikel deur. Soek SEWE feite waarin die moets en moenies van die
pligte van die seremoniemeester by ’n troue opgesom word. Jou opsomming moet nie meer as
90 woorde wees nie.

LET WEL

• Telegramstyl/SMS-styl is onaanvaarbaar.
• Jou antwoord moet puntsgewys en so ver moontlik in jou eie woorde aangebied word.
• Gebruik die titel: Moets en moenies.
• Die woorde van die titel moet nie in berekening gebring word nie.
• Skryf die getal woorde wat jy gebruik onderaan jou stuk neer.
• Onthou: elke sin moet EEN feit insluit.

Gedra jou, seremoniemeester

Die seremoniemeester is gewoonlik ’n vriend of familielid van die bruidspaar. Sy taak is om die gaste
by die onthaal welkom en tuis te laat voel; hy kondig aan wat gaan gebeur en wanneer, skep die
atmosfeer en bestuur die geleentheid met styl.
Daar is ’n paar dinge wat ’n seremoniemeester moet doen en nie moet doen nie. Hy moet sorg dat
hy presies weet hoe lank hy moet praat. Gepaste humor is noodsaaklik en hy moet so vriendelik en
opreg as moontlik wees. Die gehoor moet met hom kan identifiseer en moet hom geniet, selfs
bewonder. Voor hy praat, moet hy diep asemhaal om spanning te verwerk. Dit sal verseker dat hy
duidelik praat, met entoesiasme en selfvertroue. Hy moet ook ordentlike woorde gebruik – nie
uitdrukkings soos "adekwaat" (te hoogdrawend), “oukei” (plat taal verberg ’n gebrekkige woordeskat)
of lelike woorde nie.
Moenie die indruk skep dat jy die ster van die geleentheid is nie. Jy is nie; dis die bruidspaar se
voorreg. Ongure, onvanpaste grappe of stories is ontoelaatbaar. Enigiets met ’n seksuele
konnotasie gee aanstoot. As jy van notas wil gebruik maak, moet jy nie op los blaaie werk nie.
Gebruik stewige geheuekaarte om jou aantekeninge op te maak. Jy mag jou notas net gebruik om
jou geheue te verfris. Moenie jou bydrae aflees nie. Memoriseer soveel moontlik. Wat jy ook al sê,
doen dit duidelik, kort en kragtig.
Wees lief vir jou gehoor en respekteer hulle. As jy van mense hou, voel hulle dit aan en dan sal hulle
positief reageer.
Mense onthou die beste wat eerste en laaste gesê word. Klee jou aanbieding daarvolgens in: sê die
mooiste, belangrikste dinge eerste en laaste.

Aangepas uit: Die nuwe goeie maniere & etiket, Emsie Schoeman (Human en Rousseau, 1996)

[10]

8
VRAAG 3

Lees die onderstaande artikel vlugtig deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

Dubbele skrik toe slang uit spieël loer

Rosette Jordaan

1 ’n Boomslang op jou spieëltafel is erg, maar ’n dubbele boomslang is dubbel so erg.


So onregverdig!

2 Dit is in elk geval wat mev. Freda Zeeman van Bergplaas pas beleef het. Gil kan sy gil, en
daarna was dit klaar met kees, wat die boomslang betref, maar nie voordat die huishulp die
hasepad gekies het toe die huisvrou so luidkeels lostrek nie.

3 Gelukkig het dit darem die ore van haar man en die plaaswerkers bereik, en hulle het kom help.

4 Mev. Zeeman vertel dat sy op pad na haar slaapkamer was toe sy ’n harde geluid hoor soos dié
van ’n duif wat teen ’n ruit vasvlieg. Toe sy haar aantrekkamer binnestap, tref die gesig van die
oënskynlike Siamese monster haar tussen die oë. Lank uitgestrek oor die hele spieëltafel lê die
yslike boomslang vir haar en loer, met sy spieëlbeeld neffens hom.

5 Toe haar huishulp haar gille hoor, dag sy die vrou word vermoor en laat spaander.

6 Mev. Zeeman se man, Frans, wat van ’n hartaandoening herstel, het ook sy vrou se gille gehoor.
Van die werkers het gaan ondersoek instel en die slang van kant gemaak.

7 Die slang van sowat 1,7 m was vermoedelik op pad na ’n swaelnes buite die kamervenster toe
hy per ongeluk deur die venster geval het.

Verkort uit: Die Burger, 22 Februarie 1996

3.1 Verduidelik wat jy onder “die hasepad gekies” (paragraaf 2) verstaan. (1)

3.2 Gee ’n sinoniem vir “neffens” in paragraaf 4. (1)

3.3 Wat beteken on- in “onregverdig” in paragraaf 1? (1)

3.4 Wat beteken die uitdrukking “laat spaander” in paragraaf 5? (1)

3.5 Gee ’n antoniem vir die woord “herstel” in paragraaf 6. (1)

3.6 Verander die volgende sin in ’n vraagsin.

Mev. Zeeman se man het ook haar gille gehoor. (1)

3.7 Skryf die volgende sin oor in die lydende vorm.

Die plaaswerkers het die geskree van die huishulp gehoor. (2)

9
3.8 Gee die intensiewe vorm van “hard”. (1)

3.9 Wat is die basis (stam) van “gelukkig” in paragraaf 3? (1)

[10]

10
VRAAG 4

Bestudeer die interessante verbale voorstelling en beantwoord die daaropvolgende vrae.

“Dit is so ’n plesier
om vir hom te werk.”

“Hoekom moet hy soveel


onredelike eise stel.”

“Ek is nie sy vrou of slaaf nie.


As hy nog één woord sê, stap ek
by hierdie kantoor uit.”

’n Spanningshoofpyn kan jou buie


verander en die manier waarop jy alledaagse
probleme hanteer, beïnvloed.
Stop dus die steeds groeiende pyn wat deur
stres en spanning veroorsaak word. Met
vinnige, doeltreffende Pynstop*, sal jy die krag
vind om voort te gaan.

Die pyn stop hier


Vra jou Apteker

4.1 Watter woord dui ’n toestandsverandering in die tweede aanhaling aan? (1)

4.2 Wie is die “hy” waarna verwys word? (1)

4.3 Skryf die dreigement in die derde aanhaling neer. (1)

4.4 Skryf die meervoud van “slaaf” neer. (1)

4.5 Haal die sinoniem vir “gemoedstoestand” uit die advertensie aan. (1)

4.6 Haal die antoniem vir “seldsame” uit die advertensie aan. (1)

4.7 Wat noem ons die persoon wat vir jou raad kan gee oor medikasie? (1)

4.8 Kies die korrekte spelling uit die woorde tussen hakies.
Die dame gebruik (onmiddelik, onmidellik, onmiddellik) pynstop vir haar hoofpyn. (1)

4.9 Skryf die eerste aanhaling in die verlede tyd. (1)

4.10 Skryf die tweede aanhaling in die lydende vorm. (1)

[10]

[TOTAAL: 40 punte]

11
Graad 11
AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS DRIE
Punte: 40

VRAAG 1

Lees die onderstaande artikel sorgvuldig deur en volg die instruksies by die vrae. Onthou om
reëls oop te laat tussen antwoorde.

Kauai wil kos in skole se kafeterias gesond kry

1. KAAPSTAD – Die Kauai-groep gaan nou sy produkreeks tot in die kafeterias van uitgesoekte
privaatskole uitbrei, met die langtermyndoel om ook by staatskole ’n voet in die deur te kry.

2. Volgens me. Shelley Web, bestuurder van die projek, beplan die gesondheidsgroep om teen die
einde van 2007 by ses private skole, hoofsaaklik in Kaapstad en Johannesburg, gevestig te
wees. Daarna sal hulle soos die geleentheid ontstaan, uitbrei.

3. Volgens Web lê die motivering van die projek daarin dat baie skole nog soek na ’n antwoord om
beter in die optimale voedingsbehoeftes van die kinders te voorsien. “Gaskoeldrank, lekkers, en
items met hoë onversadigde vette bied wel ’n korttermynoplossing vir hongerpyne, maar op die
lange duur sukkel skoliere om gefokus te bly, of raak hulle selfs tydelik ooraktief.”

4. Danksy ’n inisiatief by die Reddam House-privaatskool in Constantia om gesonde eetgewoontes


as deel van die opvoedingsproses te hê, kon Kauai sy eerste proeflopie by die skool onderneem.

5. Volgens Web kon daar deur tydsbeperking nog nie ten volle na die Kauai-spyskaart oorgeskakel
word nie, en bied die Reddam House-kafeteria tans ’n oorgangspyskaart waarvan die meeste
lekkergoed en gaskoeldranke reeds uitgesny is.

6. Kauai beplan om gedurende die skoolvakansie die kafeteria na die Kauai-styl te herontwerp en
sy eie spyskaart in gebruik te neem.

7. Wat die bekostigbaarheid van gesondheidskos vir kinders betref, sê Web dat Kauai hard gewerk
het om goedkoper opsies as wat tans in die gewone takke gevind word, in die skole aan te bied.
Sy sê die feit dat hulle groot volumes deur hul bestaande takke kan aankoop, tel in hul guns om
na goedkoper opsies vir skole te kan kyk. Web sê die Kauai@school-konsep sal deur die groep
besit word, maar dat die personeel van die kafeterias die geleentheid sal kry om deur Kauai in
diens geneem en opgelei te word.

Uit: Die Burger, 26 Januarie 2007

Beantwoord die onderstaande vrae elk in EEN SAAKLIKE VOLSIN. (EEN punt per vraag word
afgetrek indien antwoorde nie in volsinne is nie.)

1.1 Verklaar in jou eie woorde die betekenis van die bostaande koerantberig. (2)

1.2 Watter afleiding kan ons van die bestaande kafeteria maak? (2)

1.3 Waarom, dink jy, gaan hulle eers in uitgesoekte privaatskole uitbrei? (2)

1.4 Wat is die langtermyndoelwit van Kauai? (2)

12
1.5 Wat kan ons van die mense van Kaapstad en Johannesburg se eetgewoontes aflei? (2)

1.6 Waardeur word hierdie Kauai-projek gedryf? (2)

1.7 Noem:

• EEN voordeel van items met hoë onversadigde vette.


• TWEE nadele van items met hoë onversadigde vette. (3)

1.8 Om watter rede kan Kauai sy eerste proeflopie by ’n skool onderneem? (2)

1.9 Hoe sal die personeel van die kafeterias voordeel trek as Kauai skoolkafeterias
oorneem? (2)

1.10 Wat beteken dit as jy jou “voet in die deur het”? (1)

[20]

VRAAG 2

In die promosieartikel “Langtermyntoets” kyk Mark na die nuwe vastrapskoene.

Lees die onderstaande artikel deur en soek SEWE redes waarom Mark so beïndruk is met die
skoene. Maak ’n puntsgewyse opsomming daarvan in nie meer as 90 woorde nie.

LET WEL

• Telegramstyl/SMS-styl is onaanvaarbaar.
• Jou antwoord moet puntsgewys en so ver moontlik in jou eie woorde aangebied word.
• Gebruik die titel: Voordele vir jou opsomming.
• Die woorde van die titel moet nie in berekening gebring word nie.
• Skryf die getal woorde wat jy gebruik onderaan jou stuk neer.
• Onthou: elke sin moet EEN feit insluit.

13
Langtermyntoets

Mark is in ’n nuwe paar vastrapskoene teen ’n berg op en is beïndruk (dog effens uitasem).

Dis mos hoe bergklimskoene moet voel!

Ek hou nie juis van stapstewels nie. Ek sal dit dra as ek moet, maar ek verkies iets ligters. Ek het
selfs een staptog van drie weke in die Himalajas met gewone drafskoene aangepak. Dís hoekom ek
sommer dadelik van die nuwe La Sportiva-vastrapskoene gehou het.

Vir dié wat nie weet nie: Vastrapskoene (approach shoes) is ’n laaggesnyde stapskoen met ’n sagte,
klewerige sool wat jou ’n bietjie ekstra “traksie” gee. Dis oorspronklik vir rotsklimmers ontwerp wat ’n
ligte dog stewige skoen nodig het om na die beginpunt van hulle klimtogte te stap.

Sedertdien het die trappers ook gewild geword onder die gewone stappers wat ’n ligte stapskoen
soek wat darem jou voet effens ondersteun.

Die Italiaanse vervaardiger, La Sportiva, spesialiseer in bergstapskoene, en die oomblik dat jy jou
paar La Sportivas aantrek, kan jy voel dis met sorg gemaak. Die FriXion-sole klou behoorlik, want dit
word van dieselfde rubber gemaak as wat vir rotsklimstewels gebruik word.

Die veters strek tot by die skoen se neus, dus kan jy die skoen in sy geheel stywer vastrek as die
terrein moeilik raak.

Behoort jy ’n paar soos dié te koop? Dit hang af hoe swaar jou rugsak en hoe sterk jou enkels is.

Die Cirque Pro is ’n stewige skoen met ’n versterkte hak (hulle noem dit ’n hakstabiliseerstelsel),
maar dit bedek en ondersteun ongelukkig nie jou enkelknoppe nie.

As jy ’n swaar rugsak dra, trap maar versigtig op daardie enkel wat jy tydens daardie ongelukkige
voorval laat op Oujaarsaand beseer het.

Prys: Tussen R650 en R700 by spesialiswinkels

Kontak: Outward Ventures (021 683 3638)

Wees gewaarsku: Jou vastrapskoene gaan nie so lank hou as gewone stapstewels nie. Die sole
verweer vinniger omdat dit van sagte rubber gemaak word. Jy kan dit egter laat versool, maar liefs
nie by die ou met die stalletjie by die vlooimark nie.

Uit: Weg, September 2007

[10]

14
VRAAG 3

Lees die onderstaande berig vlugtig deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

Sterre

Twee wil volg in Joe Barber se voetspore.

Ocean View gaan binnekort nog celebrities kry. William Lewis en Peter Overmeyer hoop om in die
voetspore van die komediant Oscar Petersen, oftewel Joe Barber, ook afkomstig van Ocean View,
te volg.

Lewis en Overmeyer gaan in ’n splinternuwe mini-reeks op TV te sien wees. Dié TV-drama handel
oor bendes op die Kaapse Vlakte wat ’n jong meisie moet beskerm. Tanya van Graan speel die
hoofrol. Sy is vanjaar aangewys as die sexyste meisie van KFM. Lewis sê hy is dankbaar vir die
projek, want dit het hom weer hoop gegee vir die lewe. Lewis sê: “Ek was verslaaf aan tik, maar nou
het ek weer hoop vir die toekoms.”

Die meeste van die akteurs kom van die Kaapse Vlakte. Overmeyer het aan Kaapse Son erken hy
was al in die tronk, maar dat hy nog nooit lid van ’n bende was nie.

Die mini-reeks sal op SABC2 uitgesaai word. Williams en Overmeyer sal dus binnekort op die kassie
te sien wees.

Uit: Son, 23 Augustus 2007

3.1 Wat beteken dit as “jy in iemand se voetspore volg”? (1)

3.2 Gee die Afrikaanse woord vir “celebrities”. (1)

3.3 Gee die intensiewe vorm van “bekend”. (1)

3.4 Skryf die volgende sin in die indirekte rede.

Lewis sê: “Ek was verslaaf aan tik, maar nou het ek weer hoop vir die toekoms.” (1)

3.5 Voltooi die volgende sin met die inhoud van die leesstuk in gedagte.

’n Komediant laat gewoonlik die gehoor … (1)

3.6 Gee die vroulike geslagsvorm van “akteurs”. (1)

3.7 Skryf die afkorting vir “April” neer. (1)

3.8 Gee EEN woord vir die woorde tussen hakies.

Hy was ’n (lid van ’n bende). (1)

15
3.9 Wat word mense genoem wat in Kaapstad woon? (1)

3.10 Vervang “kassie” in die laaste sin met ’n sinoniem. (1)

[10]

[TOTAAL: 40 punte]

16
Graad 11
AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS VIER
Punte: 40

VRAAG 1

Lees die onderstaande artikel sorgvuldig deur en volg die instruksies by die vrae. Onthou om
reëls oop te laat tussen antwoorde.

Groente en vrugte te min geëet

1 "Dit is die eerste keer dat ’n studie op nasionale vlak oor vrugte- en groente-inname gedoen is,"
sê me. Celeste Naudé wat dié studie vir haar M-tesis aangepak het. ’n Opname in 2004 deur die
WGO het bevind dat die sub-Sahara-streek, waarin SA ingedeel is, se inname trouens van die
laagste in die wêreld is. Die Wes-Kaapse syfers het egter ietwat beter vertoon, maar was steeds
onvoldoende.

2 Volgens internasionale navorsing kan ’n goeie inname van hierdie plantvoedsel kinders teen ’n
magdom siektes beskerm. Daar is bewys dat die genoegsame inname daarvan chroniese
toestande soos kanker, diabetes en kardiovaskulêre siektes kan voorkom. Dit is ook belangrik
om te weet en te onthou dat aanvullings van enige aard nooit vrugte en groente kan vervang nie.

3 Oor hoekom presies op kinders (1–9 jaar) in die studie besluit is, verduidelik me. Naudé dat
kinders altyd ’n goeie aanduiding gee van ’n land se gesondheidsbarometers. Die NFCS
(National Food Consumption Survey) is deur die departement van gesondheid geïnisieer. Eers is
net gekyk na inname van vitamines, minerale en koolhidrate. Verdere ontledings is toe gedoen in
dié studie en kinders se groente- en vrugte-inname in gram per dag is bepaal. Daar is ook gekyk
of huishoudelike inkomste enige verband hou daarmee, asook die opvoedkundige peil van ma’s.

4 “Gram vir gram is vrugte en groente ongelukkig duurder vergeleke met verfynde koolhidrate en
suikers,” sê Naudé. “In ’n huishouding met beperkte inkomste sal stysel, proteïen en suiker
eerstens geëet word om versadiging te bewerkstellig. Wêreldwyd het ons dieselfde neiging in
ontwikkelende lande ondervind.

5 “Die studie het verskeie aanbevelings gemaak wat moontlik deur die regering toegepas kan
word, want hoewel daar riglyne is wat aandui dat kinders genoeg vrugte en groente moet eet, is
daar nog geen nasionale beleid wat fokus op die bevordering hiervan nie, bv. die insluiting van
dié voedselgroep in skoolvoedingsprogramme,” sê Naudé.

6 “Ons het aanbeveel dat die regering strategieë moet ontwikkel om die toeganklikheid van vrugte
en groente vir almal dieselfde te maak, ongeag jou inkomste.”

Verkort uit: TygerBurger, 8 Augustus 2007

Beantwoord die onderstaande vrae elk in EEN SAAKLIKE VOLSIN. (EEN punt per vraag word
afgetrek indien antwoorde nie in volsinne is nie.)

1.1 Verklaar in jou eie woorde wat die hoofgedagte van die bostaande leesstuk is. (2)

1.2 Wat is, volgens die leesstuk, die langtermynvoordele verbonde aan genoegsame
inname van vrugte en groente? (2)

1.3 Wat het die leesstuk ten doel? (2)


17
1.4 Waarom is kinders juis die fokus van die studie in die leesstuk? (2)

1.5 Watter waarskuwing rig die leesstuk omtrent die gebruik van aanvullings? (2)

1.6 Waarom is daar gekyk na die verband tussen huishoudelike inkomste en die vrugte- en
groente-inname by kinders? (2)

1.7 HAAL EEN SINSDEEL uit die leesstuk AAN om te bewys dat daar tans geen nasionale
regeringsbeleid bestaan wat bydra tot beter inname van vrugte en groente nie. (2)

1.8 Wat stel die leesstuk voor, kan skole doen om te help met die bevordering van vrugte-
en groente-inname? (2)

Die volgende vrae hoef NIE IN VOLSINNE beantwoord te word nie.

1.9 Noem twee rolspelers wat, volgens die leesstuk, verantwoordelik is vir genoegsame
vrugte- en groente-inname by kinders. (2)

1.10 Skryf EEN woord uit die leesstuk neer wat dieselfde beteken as die onderstaande
definisies:

a) ’n menigte, ’n hele boel (paragraaf 2) (1)


b) bereikbaar, oop vir besoek (paragraaf 6) (1)

[20]

18
VRAAG 2

Lees die onderstaande artikel deur en skryf die voor- en nadele van koffie neer. Daar moet vier
voordele en drie nadele wees. Maak ’n puntsgewyse opsomming daarvan in nie meer as 90
woorde nie.

LET WEL

• Telegramstyl/SMS-styl is onaanvaarbaar.
• Jou antwoord moet puntsgewys en so ver moontlik in jou eie woorde aangebied word.
• Gebruik die titel: Voor- en nadele vir jou opsomming.
• Die woorde van die titel moet nie in berekening gebring word nie.
• Skryf die getal woorde wat jy gebruik onderaan jou stuk neer.
• Onthou: elke sin moet EEN feit insluit.

Koffie … goeie en slegte nuus

Of jy dit nou gebruik om soggens wakker te word, smiddae wakker te bly of sommer net as ’n
verskoning om uit die huis te kom en saam met vriende te kuier, koffie is wêreldwyd miljoene mense
se gunstelingdrankie. Alhoewel dit aanvanklik in Arabië gebruik is as ’n energiedrankie het die ryklik
gegeurde brousel van die koffieboon kort voor lank ’n wêreldwye fenomeen geword. Dis veral die
kafeïen se buiveranderende eienskappe wat dit so gewild maak. Mag jy dus nog skuldvry drink aan
jou daaglikse dosis?

Die kafeïeneffek

Omdat kafeïen ’n direkte uitwerking op die senuweestelsel het, kan dit lei tot gedragsversteurings
soos senuweeagtigheid, angstigheid en selfs paranoia.

Studies toon aan dat gereelde kafeïeninname jou cholesterolvlakke kan verhoog. Verder is daar
onlangs bevind dat koffie jou homosistienvlakke kan laat styg (’n chemikalie in die bloed wat met
hartsiektes geassosieer word).

By vroue kan hoë kafeïeninname tot ’n afname in beendigtheid lei. Dit kan ook tot onvrugbaarheid
en ’n verergering van PMS-simptome lei.

Daar is darem nie net slegte nuus nie, en die koffieboon is nie heeltemal waardeloos nie. Dit is
bekend dat tee ryk is aan reinigende antioksidante, maar onlangse studies het getoon dat koffie ook
’n uitstekende bron hiervan is. Die belangrikste koffie-antioksidant wat geïdentifiseer is, is
chlorogeniese suur wat ’n groot bydrae lewer tot antioksidante in die dieet.

Asmalyers kan ook baat by matige inname en koffie kan gebruik word om hewige aanvalle te
verminder. Indien dit gedrink word voor oefening, kan kafeïen help met vetverbranding en
uithouvermoë. Dit kan ook jou geheue en konsentrasie verbeter.

19
Kafeïenvrye keuses

Baie mense dink dat kafeïenvrye koffie beter is. Dit is waar – die kafeïenvlak is laer, maar studies
toon dat kafeïenvrye koffie kan lei tot ’n groter toename in LDL-cholesterol (die slegte tipe) as
gewone koffie. Plaasvervangers van sigorei en ander grane is wonderlike kafeïenvrye alternatiewe
en hulle smaak amper nes die ware Jakob. ’n Koppie kafeïenvrye kruietee (rooibos, peperment of
kamille) is ook ’n gesonde alternatief.

Uit: Finesse, Mei 2007

[10]

20
VRAAG 3

Lees die onderstaande leesstuk vlugtig deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

Lentefris …
Pienk dames Pink lady-appels (3.5) hul blosende wangetjies is nou weer beskikbaar.
Hierdie “dames” is laag in kalorieë, vetvry en ’n goeie bron van vesel en propvol
antioksidante. Wat die Pink lady-appels besonders maak, is die aanloklike pienk kleur,
maar veral die geur wat vanweë die unieke suiker- en suurbalans meer sterker as dié
van die meeste ander appels is. Gebruik hulle in alles – van slaaie tot in gebak.
Uit: Rooi Rose, September 2007

3.1 Maak ’n sin met die woord “lente”. (1)

3.2 Watter stylfiguur kry ons in die woord “wangetjies”, soos dit in die leesstuk gebruik
word? (Kies EEN van die volgende.)
A antiklimaks
B hiperbool
C eufemisme
D metafoor (1)

3.3 Verdeel die woord “antioksidante” in lettergrepe en onderstreep dié deel wat die klem
dra. (1)

3.4 Verduidelik die funksie van die koppelteken in die woorde “suiker- en suurbalans”. (1)

3.5 Vul die ontbrekende voorsetsel in.


Pink lady-appels _____________ hul blosende wangetjies. (1)

3.6 Daar is ’n oortollige woord in die leesstuk. Verwyder die woord en skryf die woord wat
direk daarna volg as antwoord. (1)

3.7 Wat is die stam van die woord “blosende”? (1)

3.8 Wat is die rede vir die gebruik van die deeltekens in die woord “kalorieë”? (1)

3.9 Maak die volgende sin ontkennend.


Gebruik hulle in alles. (1)

3.10 Gebruik die woord “gebak” in ’n sin waar jy dit as ’n abstrakte selfstandige naamwoord
gebruik. (1)

[10]

[TOTAAL: 40 punte]

21
Graad 11 AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS EEN ANTWOORDE

VRAAG 1

1.1 skooldrag ü (1)

1.2 Dit kan by Pep Stores gekoop word. üü (2)

1.3 Beste pryse ... en meer! (of Laagste pryse vir almal!) ü (1)

1.4 Hulle wil mense oortuig om skoolklere te koop. üü (2)

1.5 Alle mense wat skoolgaande kinders het. üü (2)

1.6 Aan die begin van die jaar, voordat die nuwe skooljaar begin. üü (2)
[10]

VRAAG 2

Beskerm jou so
• Gaan gereeld jou kredietprofiel na. ü
• Moenie ID-boekies laat rondlê nie. ü
• Meld diefstal of verlies van ID-boekies by die polisie aan. ü
• Stel ondersoek in as jy nie meer gereelde rekeninge ontvang nie. ü
• Moenie jou ID-besonderhede of kredietkaart aan enigeen verskaf nie. ü
• Moet nooit jou ID-nommer oor die internet verskaf nie. ü
• Wees versigtig in jou werkomgewing; moenie jou ID-nommer op lyste verskaf of by
sekerheidswagte los nie. ü
(65 woorde)

Feite 7
Taal 2
Getal woorde 1
[10]

22
VRAAG 3

3.1 Produkte is ... ü (1)

3.2 Wanneer jy die produk koop sonder om daaroor te dink, ü kan jy gerus wees. ü (2)

3.3 die verbruiker ü (1)

3.4 goedkeuringsmerke ü (1)

3.5 Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde ü (1)

3.6 betroubaarder/meer betroubaar ü (1)

3.7 Sodat die leser dit maklik kan raaksien/Omdat die advertensie oor die SABS handel ü (1)

3.8 beste ü (1)

3.9 Die SABS-advertensie sê dat hulle met trots objektief, betroubaar en deeglik te werk
gaan. ü (1)
[10]

23
VRAAG 4

4.1 Jan Rap en sy maat ü (1)

4.2 entrepreneur ü (1)

4.3 eienaar/naam van produk/besigheid ü (1)

4.4 Hulle alles ü (1)

4.5 Ek gooi my sokkies in my laai. (eie diskresie) ü (1)

4.6 Gebruikers wat baie tyd het, kan na vriende of kennisse soek. ü (1)

4.7 gunstelingmusiek ü (1)

4.8 geslote ü (1)

4.9 ’n Ongerieflike waarheid ü (1)

4.10 Groen verteenwoordig groei/omgewing/bome en blomme. Hulle gee om vir dit wat
groen in die omgewing is. ü (1)
[10]

[TOTAAL: 40 punte]

24
Graad 11 AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS TWEE ANTWOORDE

VRAAG 1

1.1 Gesentraliseerde toegangsprogram ü (1)

1.2 Dit is ’n aksie wat sake in ’n nuwe rigting stuur. ü (1)

1.3 Geriefliker – jy kan na enige sentrum gaan as jy met vakansie of besigheid is ü/winkel
het verlengde ure ü (2)

1.4 Die apteek kan jou voorskrifgeskiedenis nagaan voordat hulle jou met raad bedien. ü (1)

1.5 Hulle soek kliënte sodat hulle geld kan maak. ü (1)

1.6 Hulle wil mense oortuig om hulle voorskrifte by Clicks Apteke te kry. ü (1)

1.7 Alle mense wat ’n voorskrif vir medikasie nodig het ü (1)

1.8 Enige TWEE van die volgende:


• ID-nommer (ü)
• geboortedatum (ü)
• mediesefondsnommer (ü) (2)
[10]

25
VRAAG 2

Moets en moenies
• Die seremoniemeester moet weet hoe lank hy moet praat. ü
• Sy humor moet gepas wees en hy moet vriendelik en opreg wees. ü
• Hy moenie senuweeagtig wees nie en moet met selfvertroue praat. ü
• Hy moet ordentlike woorde gebruik. ü
• Onvanpaste grappe en stories is taboe. ü
• Hy moenie op los blaaie werk en die bydrae aflees nie. ü
• Hy moet kort en kragtig wees en die mooiste en belangrikste dinge eerste en laaste sê. ü
(69 woorde)

Feite 7
Taal 2
Getal woorde 1
[10]

VRAAG 3

3.1 om weg te hardloop ü (1)

3.2 langs ü (1)

3.3 nie ü (1)

3.4 om vinnig weg te hardloop ü (1)

3.5 verswak ü (1)

3.6 Het mev. Zeeman se man ook haar gille gehoor? ü (1)

3.7 Die huishulp se geskree is deur die plaaswerkers gehoor. üü (2)

3.8 kliphard ü (1)

3.9 geluk ü (1)


[10]

26
VRAAG 4

4.1 onredelike ü (1)

4.2 Dit verwys na die man/werkgewer. ü (1)

4.3 “stap ek by die kantoor uit” ü (1)

4.4 slawe ü (1)

4.5 “bui” ü (1)

4.6 “alledaagse” ü (1)

4.7 apteker ü (1)

4.8 onmiddellik ü (1)

4.9 “Dit was so ’n plesier om vir hom te werk.” ü (1)

4.10 Hoekom moet daar deur hom soveel onredelike eise gestel word? ü (1)
[10]

[TOTAAL: 40 punte]

27
Graad 11 AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS DRIE ANTWOORDE

VRAAG 1

1.1 Kauai wil gesonde kosse in skole se kafeterias verkoop. ü (volsin ü) (2)

1.2 Ons kan aflei dat die kafeteria ongesonde kosse verkoop. ü (volsin ü) (2)

1.3 Privaatskole se kinders het meer geld om te spandeer. ü (volsin ü) (2)

1.4 Om ook by staatskole gesonde kosse te verkoop. ü (volsin ü) (2)

1.5 Ons kan aflei dat hulle ongesonde eetgewoontes het. ü (volsin ü) (2)

1.6 Dit word gedryf deur die feit dat skole beter in die optimale voedingsbehoeftes van die
kinders wil voorsien. ü (volsin ü) (2)

1.7 • Dit bied ’n korttermynoplossing vir hongerpyne. ü


• Op die lange duur sukkel skoliere om gefokus te bly. ü
• Hulle raak selfs tydelik ooraktief. ü (3)

1.8 Dit is danksy ’n inisiatief van Reddam House-privaatskool om gesonde eetgewoontes


as deel van die opvoedingsproses te hê. ü (volsin ü) (2)

1.9 Hulle sal die geleentheid kry om deur Kauai in diens geneem en opgelei te word. ü
(volsin ü) (2)

1.10 Jy kry die geleentheid om met iets nuuts te begin. ü (1)


[20]

28
VRAAG 2

SEWE redes:
• Die skoene weeg min. ü
• Die skoene is stewig. ü
• Dit ondersteun jou voete. ü
• Die skoene is met sorg en moeite gemaak. ü
• Die skoene laat jou nie gly nie, want dit kleef aan die pad. ü
• Die veters begin van die neuspunt af wat die skoen lekker styf kan vasmaak. ü
• Die skoen het ’n versterkte hak. ü
(53 woorde)

Feite 7
Taal 2
Getal woorde 1
[10]

VRAAG 3

3.1 Jy doen dieselfde as jou voorganger. ü (1)

3.2 hooggeplaastes ü (1)

3.3 alombekend ü (1)

3.4 Lewis sê dat hy verslaaf was aan tik, maar dat hy nou weer hoop het vir die toekoms. ü (1)

3.5 lag ü (1)

3.6 aktrises ü (1)

3.7 Apr. ü (1)

3.8 bendelid ü (1)

3.9 Kapenaars ü (1)

3.10 televisie ü (1)


[10]

[TOTAAL: 40 punte]

29
Graad 11 AFRIKAANS HUISTAAL
TOETS VIER ANTWOORDE

VRAAG 1

1.1 Genoegsame inname van vrugte en groente is voordelig vir kinders se gesondheid. üü (2)

1.2 Kinders word teen chroniese siektes beskerm.üü (2)

1.3 Die bevordering van genoegsame vrugte- en groente-inname by kinders.üü (2)

1.4 Kinders gee ’n goeie aanduiding van ’n land se gesondheidsbarometers/


gesondheidspeil/gesondheidsgrense. üü (2)

1.5 Aanvullings kan nooit vrugte en groente vervang nie. üü (2)

1.6 Kwaliteitvrugte en -groente is duur. üü (2)

1.7 “…is daar nog geen nasionale beleid wat fokus op die bevordering hiervan nie…” üü (2)

1.8 Skole kan vrugte en groente by hul voedingsprogramme insluit. üü (2)

1.9 Ouers ü en die regering ü (2)

1.10 a) magdom ü (1)


b) toeganklikheid ü (1)
[20]

30
VRAAG 2

Enige VIER van die volgende voordele:


• Koffie is ’n goeie bron van antioksidante. (ü)
• Koffie lei tot minder en minder erge asma-aanvalle. (ü)
• Koffie voor oefening help om vet te verbrand. (ü)
• Koffie kan jou geheue en konsentrasie verbeter. (ü)

Enige DRIE van die volgende nadele:


• Koffie lei tot gedragsversteurings. (ü)
• Dit verhoog jou cholesterolvlakke. (ü)
• Jy kan maklik hartsiektes kry. (ü)
• Vroue raak minder vrugbaar. (ü)
• Vroue se beendigtheid verminder. (ü)
• PMS-simptome verhoog ook by vroue. (ü)
(Getal woorde, afhangende van leerder se antwoord)

Feite 7
Taal 2
Getal woorde 1
[10]

31
VRAAG 3

3.1 Bv. Lente is die seisoen na die winter. ü (1)

3.2 C ü (eufemisme) (1)

3.3 an-ti-ok-si-dan-te ü (1)

3.4 afstandkoppeling – om die woord “balans” nie te herhaal nie ü (1)

3.5 met ü (1)

3.6 sterker (sonder “meer”) ü (1)

3.7 bloos ü (1)

3.8 Dit dui die begin van die volgende lettergreep aan. ü (1)

3.9 Moenie (nie “moet nie”) hulle in alles gebruik nie! ü (1)

3.10 Sy was verantwoordelik vir die gebak by die kermis (abstrakte selfstandige
naamwoord). ü (1)
[10]

[TOTAAL: 40 punte]

32
KABV

Eenvoudig briljant!

• Briljante NKABV-dekking (CAPS) en geskryf deur kundige


outeurs
• Briljante illustrasies en aktiwiteite sal uitslae verbeter en
leerders motiveer
• Briljante onderwyserondersteuning, o.a. fotokopieerbare
werkvelle, kontroletoetse en ’n Vraagbron CD-ROM, maak
voorbereiding vinnig en onderrig maklik
• Briljante + gehalte = sukses!
Afrikaans Huistaal
Graad 11

Kontroletoetsboek

http://schools.pearson.co.za

I S B N 978-0-636-13777-6

9 780636 137776

M A S K EW MI LL E R L O N G M AN

9780636137776_plt_lan_ctb_g11_afr_za_cvr.indd All Pages 2014/11/07 7:30 AM

You might also like