You are on page 1of 28

s

a an
rik
Af

6 FILMS
BESPREKINGSGIDS
Vir Kerke

Family In Everything
Portrait Time a Boy Could Melodi Airwalker Manskap
Want
Kry hulpbronne, wenke en meer
inligting by
www.fathersmatter.org.za

is ’n inisiatief van

THE CENTRE FOR VALUES PROMOTION


www.heartlines.org.za

2 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Is pa’s belangrik in die lewe van kinders?
Hierdie vraag roep vir ons almal baie verskillende antwoorde op, en
hang af van ons ervaring van ons eie pa, ander vaderfigure in ons lewe of
hoe ons vader- of moederskap tans ervaar. Ons hoop dat jy deur hierdie
besprekingsgids wat op Heartlines se Fathers Matter-filmreeks gebaseer is,
ook kan sê: “Ja, pa’s is belangrik!”.

Wat Fathers Matter betref


Fathers Matter is ’n inisiatief van Heartlines om die positiewe en aktiewe
teenwoordigheid van pa’s in die lewe van hul kinders te bevorder. Enersyds is mans
soms fisiek teenwoordig, maar emosioneel afwesig in die lewe van kinders. Hulle
kan ook teenwoordig wees, maar met negatiewe gevolge vir die kinders. Andersyds
kan hulle fisiek weg wees van hul kinders, maar steeds positief en emosioneel by
hul lewens betrokke wees. Positiewe, aktiewe en betrokke mans is nie noodwendig
die biologiese pa’s nie; hulle is dalk ‘sosiale pa’s’ soos lede van die uitgebreide gesin,
oupas, gemeenskapsleiers en ander vaderfigure.

Navorsing toon dat kinders wat sonder goeie manlike rolmodelle grootword,
die gevaar loop om slagoffers of plegers van geweld te word. Dit kan ook lei tot
siekte, middel- en alkoholmisbruik, tienerswangerskappe, swak skoolprestasies en
negatiewe ekonomiese uitkomste wanneer hulle ouer is.

Dit is egter moontlike gevolge, nie iets wat vir seker sal plaasvind nie. Dit is nooit
te laat vir die bou of herstel van verhoudings en vir pa’s om ongeag hoe oud hul
kinders is ’n positiewe invloed op hul lewe uit te oefen nie.

3
Die films

Hierdie projek draai om ses verskillende films wat op verskeie plekke in Suid-Afrika
afspeel. Elke film is ’n diep roerende en inspirerende drama wat die kompleksiteit
van vaderskap in Suid-Afrika vandag ontgin – ’n Suid-Afrika waarin die meeste
kinders in huise sonder biologiese pa’s grootword. Elke film duur ongeveer 30
minute.

Ons wil deur hierdie films (en die baie ander hulpmiddels en instrumente wat
Heartlines ontwikkel het):

• ’n bewustheid skep en gesprekke aan die gang sit oor waarom ’n pa positief
betrokke moet wees by die lewe van sy kind/kinders, ongeag hoe oud hulle is;
• ’n ondersteunende omgewing skep en hulpbronne deel wat organisasies en
mense kan gebruik om positiewe vaderskap te bevorder.

NB – Hierdie materiaal is ontwikkel om deur enigiemand gebruik te word en is NIE


slegs vir mans bedoel NIE.

Vertoondatums van films (Onderworpe aan


verandering)
• Family Portrait 17 September
• In Time 24 September
• Everything a Boy Could Want 1 Oktober
• Melodi 8 Oktober
• Airwalker 15 Oktober
• Manskap 22 Oktober

4 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Waar kan ons na die films kyk?

Jy kan op een van die volgende maniere daarna kyk:


1. Die eerste film word vir die eerste keer op 17 September 2022 om 20:30 op
SABC 2 vertoon. Die volgende vyf films word dan tot 22 Oktober 2022 op
dieselfde tyd op die opeenvolgende Saterdae vertoon.
2. Elke film word op die Donderdag ná die eerste Saterdagvertoning op SABC 2
herhaal.
3. Die films is ook toeganklik op die SABC se video-op-aanvraag-toep, TelkomONE.
(Jy kan die toep by enige toep-verskaffer aflaai of dit aanlyn kry by www.
telkomone.tv/en.) Dit beteken jy kan enige tyd en op enige plek na die films kyk,
selfs nadat hulle op die TV vertoon is.
4. Stuur ’n e-pos aan die Heartlines span by fathersmatter@heartlines.org.za as jy
ná hierdie datums vertonings van die films wil reël.

5
Hoe om die besprekingsgids te gebruik
Hoewel hierdie gids ’n oorsig oor elke film bevat, sal jou groep die meeste baat
daarby vind as elke groeplid vóór deelname aan die bespreking daarna kyk.

• Reël dat deelnemers oor ’n tydperk van ses weke weekliks in klein groepe
bymekaarkom om na die films te kyk en hulle te bespreek. Groepe moet
verkieslik uit ses tot 10 mense bestaan.
• Stel vir elke groep ’n leier aan.
• Sorg dat elke leier ’n afskrif het van die besprekingsgids.
• Afskrifte van die besprekingsgids kan by www.fathersmatter.org.za afgelaai
word.
• Moedig groeplede aan om elke week na die film te kyk. Hulle kan dit óf tuis
doen en dan as ’n groep byeenkom óf as ’n groep by ’n huis of die kerk daarna
kyk.
• Die oorsig word slegs voorgelees as daar groeplede is wat nie na die film gekyk
het nie.
• Kyk na die besprekingsvrae oor elke film en kies dié wat in jou konteks die
tersaaklikste is na gelang van die beskikbare tyd.
• Let daarop dat sommige aanhalings en tonele uit die film dalk in die finale
redigering verander is.
• Lees die samevatting aan die groep voor.
• Bid as deel van jou voorbereiding vir die groepbespreking.
• Vertrou op God dat die films en die besprekings ’n betekenisvolle impak sal hê.

’n Woord van bemoediging van ons kant


Hoewel al die films PG (ouerleiding) gegradeer is, en oor die algemeen ooreenkom
met die waardes wat Heartlines bevorder, kan die inhoud ’n verskeidenheid
kykerresponse tot gevolg hê. Ons beveel aan die einde van die gids hulpbronne en
-organisasies aan wat bykomende steun aan groeplede kan bied.

Skep waar ook al moontlik ruimte om saam met mense te bid wat emosioneel
geraak word. Jy kan ook, waar nodig, verdere berading of pastorale steun
aanbeveel.

Ons wil graag hoor hoe dit met die sessies gegaan het. Praat met ons via enige van
die sosialemediakanale wat aan die einde van die gids vermeld word.

6 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Family Portrait
Film-oorsig
Ayize is ’n sukkelende kunstenaar wat vir die eerste keer pa word wanneer sy meisie,
Nomvula, ’n baba kry. Hy is toegewy aan haar en sy babadogter, Zenzile. Hy moet
egter aan sy ietwat skrikwekkende en moeilike skoonma, Cecelia, bewys dat hy
goed genoeg is om ’n goeie pa te wees, al kan hy nie finansieel voorsien nie. Kan hy
Cecelia se vertroue en steun wen, al het hy nie vaste werk nie?

Family Portrait ontgin hoe belangrik ’n pa in die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe
is – en die struikelblokke wat soms in die vorm van familie en die samelewing kom.

7
Bespreking
1. Wat in die film het jy die minste of die meeste geniet? Watter karakters het jou
aandag getrek, jou verras of ontstel?

2. Hoe het dit vir Ayize gevoel om die pa te wees van ’n pasgebore baba? Dink jy
dat hy sy bes gedoen het om te leer wat hy as pa moes doen?

3. Baie mense, ook die verpleegster en Nomvula se ma, Cecelia, het nie gedink dat
Ayize soveel toegang tot die baba moes kry nie. Stem jy saam of nie, en hoekom
sê jy so?

4. Wat het Cecelia, Nomvula se ma, van Ayize gedink? Was sy reg?

5. Hoekom het Nomvula gevoel dat dit belangrik was dat Ayize in die eerste 1 000
dae van die baba se lewe kontak met haar moes hê?

6. Hoekom dink jy het Ayize op ’n stadium opgehou om die baba te besoek en by


haar betrokke te wees?

7. Vusi, Ayize se pa, sê dat ’n pa se vermoë om te voorsien die enigste belangrike


ding is. Stem jy saam of nie, en hoekom sê jy so?

8. Ons lees in Spreuke 20:7 (1983-vertaling):

“Wie reg doen en eerlik lewe, met sy kinders gaan dit goed.”

Wat dink jy in die lig van hierdie Skrifgedeelte van Ayize en Vusi se optrede in
die film?

8 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Samevatting

Lees dit aan die groep voor

Ons sien in hierdie film hoe Ayize sy bes doen om ’n betrokke en sorgsame pa vir sy
baba te wees, al sukkel hy om geld te verdien of finansieel vir haar te voorsien.

Hoewel hy aanvanklik oor geen praktiese vaardighede as pa beskik het nie (hy het
byvoorbeeld nie geweet hoe om haar te voer of ’n skoon doek aan te sit nie), was hy
gewillig om te te leer en sy bes te doen. Uiteindelik het hy taamlik goed gevaar as ’n
betrokke pa. Hoewel sommige kulture glo dat kinderversorging eerder ’n ma as ’n pa
se werk is, was Ayize bereid om te doen wat hy geglo het die beste vir sy kind was.

Ondanks Cecelia se teenkanting en minagting het Ayize aangehou om sy bes te


doen. Hy én Nomvula het besef hoe belangrik ’n pa se teenwoordigheid in sy kind se
lewe reg van die begin af is. Navorsing bevestig dit ook.

Kinders word met ’n besliste voordeel groot wanneer hulle ’n betrokke pa het,
veral in die eerste drie jaar van hul lewe. Vroue én mans kan leer hoe om kinders te
versorg. Ouerskapvaardighede bou vertroue, en vroue moet pa’s aanmoedig om ’n
positiewe rol in hul kinders se lewe te speel.

9
In Time
Film-oorsig
Lerumo is ’n mynwerker wat op ’n goudmyn ver van sy vrou, Amanda, en dogter,
Bokamoso, werk. Hy is egter ’n liefdevolle pa wat geen moeite ontsien om dáár te
wees vir sy kind nie. Wanneer sy dogter die geleentheid kry om vir ’n atletiekbeurs
voor keurders van ’n topuniversiteit aan ’n wedloop deel te neem, is hy vasbeslote
om alles moontlik te doen om haar van die kantlyn aan te moedig. Daar kom egter
baie struikelblokke oor sy pad. Sal hy betyds opdaag?

Hierdie film ontgin hoe ’n pa wat ver van sy kinders is, steeds in hul lewe teenwoor-
dig kan wees.

10 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Bespreking
1. Wat in hierdie film het jou opgeval? Watter karakters het jou aandag getrek, en
hoekom?

2. Lerumo het ’n baie besondere verhouding met sy dogter, Bokamoso. Wat dink
jy van hul verhouding en hoe dink jy kon hulle in aanraking bly terwyl Lerumo so
ver weg gewerk het?

3. Felix sê vir Lerumo: “Glo my, jy doen genoeg.” Stem jy saam dat Lerumo as pa
genoeg gedoen het?

4. Wat dink jy van die voorman se woorde aan Lerumo:

“Ons het geen beheer oor die pa’s wat ons gehad het nie, maar ons kan beheer
hê oor watse pa’s óns word.”

5. Wat dink jy van Bokamoso se woorde aan Lerumo:

“Jy was hier. Ek het die heeltyd jou stem gehoor. Jou liefde was genoeg. Pa… jy
was altyd daar vir my; ek het jou stem in my gevoel… jou stem wat my altyd
lei, aanmoedig, aanspoor.”

6. Ons lees in 1 Tessalonisense 2:11-12 (1983-vertaling):

“Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ’n pa sy kinders
het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer
van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy heerlike koninkryk in te gaan.”

Hierdie vers sê dat ’n goeie pa sy kinders aanmoedig, troos en aanspoor om ’n


lewe te lei wat God eer. Hoe sien ons dat Lerumo dit vir Bokamoso gedoen het?

7. Oor watter één ding wil jy na aanleiding van hierdie film nadink of het die film
jou die moed gegee om te doen?

11
Samevatting

Lees dit aan die groep voor

’n Pa wat fisiek afwesig is, kan steeds dáár wees vir sy kinders, ongeag hoe ver weg
hy is.

Hierdie verhaal wys dat Lerumo, ongeag hoe ver hy van sy dogter, Bokamoso,
gewerk het, alles moontlik gedoen het om sy verhouding met haar sterk te hou.
Lerumo wou betrokke wees by die lewe van sy kind. Hy het haar as atleet afgerig,
het gereeld met haar kontak gemaak en haar deurentyd aangemoedig.

Lerumo het sy verantwoordelikheid as pa as méér beskou as net dié van finansiële


voorsiener. Hy wou net die beste vir Bokamoso hê en het seker gemaak dat sy weet
dat hy altyd aan haar dink, al kon hy nie altyd teenwoordig wees nie. Al woon ’n
pa ver van sy kind/ers, is daar verskillende maniere waarop hy steeds by hul lewe
betrokke kan wees en hulle van sy liefde kan verseker.

12 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Everything a Boy Could Want
Film-oorsig
Martin is ’n ryk sakeman wat in elke finansiële behoefte van sy gesin voorsien. Hy
is egter emosioneel wreed: dit is onmoontlik om aan sy eise te voldoen en hy is
bykans nooit dáár vir sy seun, Lester, nie. Lester het alles wat geld kan koop, maar
nie dit waarna hy die meeste smag nie – sy pa se liefde en goedkeuring. Wanneer
Martin daarop aandring dat sy seun koshuis toe moet gaan sodat hy in sy pa se
rugbyvoetspore kan volg, val hulle noodgedwonge saam in die pad op ’n gespanne
reis wat dreig om hulle vir altyd uitmekaar te skeur.

Hierdie film ondersoek of materiële voorsiening voldoende is vir die welsyn van ’n
kind.

13
Bespreking
1. Hoe sou jy die verhouding tussen Martin en sy seun, Lester, beskryf?

2. Dink jy Martin was regverdig om van Lester te verwag om net so goed soos hy in
rugby te vaar?

3. Watter dinge in Lester se verhouding met sy pa het daartoe gelei dat Lester
seergemaak en teleurgesteld gevoel het?

4. Martin het geglo dat sy belangrikste taak as pa sy gesin se finansiële voorsiening


was. Stem jy saam met sy prioriteite of nie en hoekom sê jy so?

5. Amy, Lester se suster, het gesê haar pa wou hê dat Lester net soos hy moes
wees. Is daar baie pa’s wat verwag dat hul kinders hul eie drome vir hulle moet
vervul?

6. Dink jy dat Martin se gedrag en houding teenoor Lester deur sy eie pa-ervaring
beïnvloed is? Hoekom sê jy so?

7. Wat dink jy het Martin op hul reis saam oor sy seun en oor homself geleer?

8. Ons lees in Maleagi 4:6 dat die Here vir Elia gaan stuur en hy sal

“…ouers met hulle kinders versoen en kinders met hulle ouers” (NLV).

Wat dink jy sê hierdie vers oor die pa-kind-verhouding?

14 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Samevatting

Lees dit aan die groep voor

Martin het die fout gemaak om te dink dat sy enigste taak was om ’n gemaklike
lewe vir sy vrou en kinders te verseker. Dit het Lester laat voel dat sy pa hom nie
ondersteun, liefgehad en verstaan het nie.

Om vir sy gesin te voorsien, het Martin hom op sy werk toegespits en nie


belanggestel in dinge wat Lester geïnteresseer het nie. Baie pa’s maak vandag
dieselfde fout.

Lester het sy eie belangstellings gehad en gevoel dat hy nie soos sy pa, ’n goeie
rugbyspeler was nie. Martin moes uitvind wat Lester se belangstellings en passies
was, en moes leer om sy kind aan te spoor en aan te moedig om sy eie drome te
verwesenlik.

Ons lees in Deuteronomium 6:6–7 (1983-vertaling): “Hierdie gebooie wat ek jou


vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en
met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy
opstaan.”

Dié Skrifgedeelte sê duidelik dat pa’s hul kinders moet betrek by diep
hartsgesprekke wat wysheid leer en meer behels as die blote oordra van feite.

Tyd saam is belangrik, al woon ’n pa nie in dieselfde huis as sy kind nie.

As hul eie pa’s afwesig of afbrekend was, moet pa’s op God vertrou om nuwe,
positiewe rolmodelle of voorbeelde te vind.

15
Melodi
Film-oorsig
Melodi is ’n suksesvolle bankier wat deur ’n liefdevolle enkelma, Sesi, grootgemaak
is. Sy wil binnekort met Liyanda trou. Die trouplanne is reeds gemaak en die lobola-
onderhandelinge moet begin. Ou wonde en diep gevoelens van verwerping kom
egter na vore. Waarom het haar pa, Mojalefa, haar as baba verlaat? Voordat Melodi
self ’n verbintenis aangaan, besluit sy om deur die pyn van die verlede te werk deur
na haar pa, wat sy nooit geken het nie, te soek. Sal hierdie reis vir haar heling bring?

Hierdie film kyk na die spanning en die pyn van iemand wat sonder ’n pa moes
grootword.

16 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Bespreking
1. Wat in die film het jou getref? Met watter karakters kon jy die beste
identifiseer?

2. Hoe is Melodi se lewe geraak deur haar pa se afwesigheid? Hoekom dink jy


wou sy uitvind waar hy was?

3. Sesi was nie beïndruk toe sy hoor dat Melodi haar pa wou opspoor nie. Wat
dink jy van Sesi se reaksie?

4. Hoe voel jy oor die keuses wat Mojalefa uitgeoefen het ten opsigte van sy vorige
en sy huidige gesin?

5. Hoe dink jy het Unathi (Mojalefa se vrou) gevoel toe sy uitvind dat Mojalefa ’n
volwasse dogter het? Wat dink jy van haar reaksie teenoor Melodi?

6. In Psalm 27:10 (1983-vertaling) staan:

“Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg
neem.”

Hoe dink jy het die ontmoeting tussen Melodi en haar pa hulle almal geraak
(Melodi, Mojalefa, Unathi en Sesi)?

7. Nadat jy hierdie film gesien het, watter één gesprek sou jy graag wou voer, en
met wie?

17
Samevatting

Lees dit aan die groep voor

Ons sien in hierdie film hoe Mojalefa gekies het om nie ’n verhouding met sy kind,
Melodi, te hê nie. Sy afwesigheid het ’n diep leemte in haar lewe gelaat en pyn, ’n
gemis en die wond van verwerping veroorsaak.

Psalm 27:10 sê ons kan op die liefde en troos van ons Hemelse Vader staatmaak, al
het ons aardse ouers ons verlaat. Aan die einde van die gids is daar hulpbronne wat
nuttig is om wonde te help heel wat deur ’n afwesige pa veroorsaak is.

Ongeag ’n pa se persoonlike besluite, moet sy kinders altyd weet dat hy vir hulle
omgee en hulle liefhet.

Ons moet ook kyk na Sesi se onwilligheid om Mojalefa toe te laat om ’n rol in Melodi
se lewe te speel omdat hy nie finansieel in hul behoeftes kon voorsien nie. Sommige
ma’s (ook stiefma’s of nuwe vroue) skep hindernisse wat pa’s verhoed om by hul
kinders betrokke te raak, soos Sesi en Unathi gedoen het.

Ma’s word aangemoedig om verantwoordelike pa’s toegang te gee tot hul kinders,
al kan hulle nie finansieel voorsien nie. Pa’s moet hulle daartoe verbind om tyd
saam met hul kinders deur te bring. Hulle moet maniere en geleenthede vind om
met hul kinders te speel, hulle lief te hê en te leer, en waar moontlik hul kinders se
behoeftes bo hul eie stel.

18 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Airwalker
Film-oorsig
Zoë is ’n begaafde jong skaatsplankryer wie se talent haar ’n plek besorg in ’n
advertensie oor haar gunstelingskaatspark. Haar ouers, Bridget en Mike, is geskei,
en hul aanhoudende bakleiery raak haar diep. Vasgevang in hul leuens en knaende
konflik, beland ’n gefrustreerde Zoë in ’n lewensgevaarlike situasie. Is dit genoeg om
haar ouers terug te ruk tot die werklikheid?

Airwalker is ’n kragtige ontginning van hoe ouers se konflik ’n kind se welsyn raak.

19
Bespreking
1. Wat het jy van die film gedink? Watter karakter(s) het jou geïnspireer of ontstel?
Met wie kan jy jou vereenselwig?

2. Hoekom dink jy het Zoë gevoel dat die konflik tussen haar ouers haar skuld was?
En hoekom dink jy was sy so gretig om naweke saam met haar pa, Mike, deur te
bring?

3. Hoekom het Bridget vir Zoë gejok dat haar pa nie wou hê sy moes voortgaan
met die skaatsplankry nie? Hoe het dit Zoë geraak?

4. Wat dink jy van Rufus se rol in Zoë se lewe?

5. In een toneel haal Rufus aan uit 1 Joh 4:18: “Waar liefde is, is daar geen vrees
nie… volmaakte liefde verdryf vrees…” (1983-vertaling)
Dink jy Zoë het ’n behoefte gehad aan meer liefde, of aan iets anders?

6. Ons lees in Efesiërs 6:4 (ABA):

“Pa’s, julle moenie julle kinders kwaad maak nie. Julle moet hulle reg grootmaak,
julle moet vir hulle leer wat hulle moet doen en wat hulle nie moet doen nie, soos
die Here wil hê.”
Wat kon Mike (en Bridget) anders gedoen het om te voorkom dat Zoë deur
woede verteer word?

7. Hoe kon Mike en Bridget beter saamgewerk het toe hulle vir Zoë besluite
geneem het?

20 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Samevatting

Lees dit aan die groep voor

Ons sien in hierdie film watse skade aangerig word in die lewe van ’n kind wie se
ouers nie met mekaar oor die weg kom nie of wat met mekaar kompeteer vir die
liefde van hul kind. Die konflik tussen haar ouers het Zoë kwaad en eensaam laat
voel. Baie jongmense kan hulle hiermee vereenselwig.

Navorsing toon dat gesamentlike besluitneming deur en goeie kommunikasie tussen


ouers belangrik is vir die welsyn van hul kinders.

Mike en Bridget kon ook meer tyd met Zoë deurgebring het om uit te vind wat haar
behoeftes werklik was. Geskeide ouers moet hul bes doen om te verhoed dat hul
kinders in húl moeilike verhouding vasgevang raak.

Onthou ook die belangrike rol wat Rufus in Zoë se lewe gespeel het deur na
haar te luister, haar aan te moedig en te lei. Sportafrigters, kategete, jeugleiers,
onderwysers, grootouers en lede van die uitgebreide gesin kan deur aansporing en
aanmoediging ’n belangrike rol in kinders se lewe speel.

21
Manskap
Film-oorsig
Kyle is ’n veelbelowende jongman, maar is werkloos en het baie probleme. Sy ma
het hom alleen grootgemaak, en met geen pa op die toneel nie is daar afgesien van
sy liefde vir karre, niks wat hom motiveer nie. Hy beland in die greep van ’n magtige
plaaslike bendeleier, Rooi. Wanneer ’n ander vaderfiguur na vore tree en hom ’n
uitweg bied, moet Kyle kies. Kan Bra Warren vir Kyle help om ’n ander lewensrigting
in te slaan? Wil Kyle dit graag genoeg doen?

Manskap ontgin die belangrike rol wat sosiale pa’s in die lewe van kinders en
jongmense speel.

22 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Bespreking
1. Wat dink jy van hierdie film? Wat het jou verras, ontstel of geskok?

2. Hoekom dink jy was die versoeking om by Rooi en sy bende betrokke te raak vir
Kyle so groot? Watter ander keuses het hy gehad?

3. Wat dink jy het Bra Warren gemotiveer om in Kyle belang te stel en hom te
help?

4. Bra Warren het gesê dat Kyle baie potensiaal het. Hoekom het hy so gedink?

5. Hoe het sy uitnodiging aan Kyle om die kar te help regmaak rigting aan Kyle se
lewe gegee?

6. In Spreuke 22:6 (NLV) staan:

“Leer ’n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy
nie daarvan afwyk nie.”

Hoe kan sosiale pa’s, soos jeugleiers, onderwysers, sportafrigters, ooms en


oupas (en nie net biologiese pa’s nie), jongmense leer, onderrig en lei? Hoe kon
Bra Warren dit vir Kyle doen?

7. In Psalm 68:6 lees ons dat God ’n vader is vir weeskinders. Baie mense het
wonde vanweë die afwesigheid van ’n biologiese pa in hul lewe (‘pa-wonde’).
Op watter maniere kan ons verhouding met God vir ons heling bring? Vir
bykomende steun, kyk gerus na die voorgestelde hulpbronne aan die einde van
die gids.

23
Samevatting

Lees dit aan die groep voor

Navorsing toon dat meer as 60% van die kinders in Suid-Afrika sonder ’n
biologiese pa in die huis grootword. Sosiale pa’s, soos betroubare jeuggroepleiers,
onderwysers, kategete, sportafrigters, ooms, oupas en ouer broers, kan ’n
belangrike rol speel om sommige van die leemtes te vul wat in die lewe van
jongmense bestaan.

In die film het Bra Warren ’n belangrike rol gespeel om van dié leemtes in Kyle se
lewe te vul.

Ons moet dink oor die rol wat ons kan speel in die lewe van kinders en jongmense
wat nie ’n biologiese pa het nie. Is daar gesinne sonder biologiese pa’s in jou
gemeenskap of kerk? Het ons die geleentheid en die tyd om só in die lewe van
jongmense te belê?

Baie mense onthou die hartseer van die gemis aan ’n vaderfiguur in die huis en
dra die pyn van hul grootwordjare met hulle saam. Miskien ervaar ons ook woede
daaroor en die gevoel dat ons ons ouers nie wil vergewe nie.

Ons verhouding met God, ons Hemelse Vader, kan heling bring en ons help om te
vergewe. Reik uit na God en kry berading, indien nodig. Ongeag hoe ons storie begin
het en ongeag die krisis waarin ons ons nou bevind, ons hét ‘n liefdevolle Vader wat
ons met sy liefde kan verlos.

24 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Bykomende hulpbronne
Indien jy of ’n groeplid besonder geraak is deur een van die besprekingsgroepe,
raadpleeg gerus die hulpbronne en organisasies hier onder vermeld vir bykomende
steun.

Jy kan, waar nodig, ook verdere berading of pastorale hulp aanbeveel.

Organisasie Wat hulle doen Kontakbesonderhede Webtuiste

Fathers In Africa Bied steun- en Kevin Rutter Website


mentorprogramme gerig kevin@fathers.co.za http://fathers.co.za
op pa’s.
Izenzo Dad Care Verskaf opleiding in Mthunzi Qaqana Facebook
vaderskap-vaardighede. izenzodadcare@gmail.com @dadcare

Sikunye Rus die kerk toe om Richard Lundie Website


ouers, versorgers en richard.lundie@commongood. https://sikunye.org.za
gesinne te steun om org.za
kinders in die eerste
1 000 dae van hul lewe
te versorg.
Dad’s the Word Bied tersaaklike inligting Ros Vroom Website
aan nuwe ouers. ros@dadstheword.com www.dadstheword.com

The World Needs a Opleiding, mentorskap Cassie Carstens Website


Father en netwerkvorming. cassie@churchsportsglobal.org https://twnaf.com
Hulpbronne vir mans en
vroue om pa-wonde te
hanteer.
SAVF Famnet Guide to Restoration Erna Rheeder Website
from Father-Pain erheeder@savf.co.za http://justdadit.co.za/
(Gids tot herstel van the-guide-to-restoration-
pa-wonde). Aanlyn from-father-pain/
beskikbaar.
Character Company Mentorskap-programme Jaco v Schalkwyk Website
vir seuns vyf jaar en ouer. jaco.ch@racter.co.za https://www.
thecharactercompany.
co.za

Father a Nation • Surrogaatpa’s en Craig Wilkinson Website


(FAN) mentorskapprogram. craig@fatheranation.co.za www.fatheranation.co.za
• Gratis kursusse aanlyn
vir mans oor gesonde
manlikheid.

25
South African Sportgebaseerde Warren Petersen Facebook
Sports Coalition dissipelskapprogram. warrengpetersen002@gmail. @UBABALOeAFRICA
com

Focus on the Family Gebed, berading en sorg. Graeme Schnell Website


graemes@fotf.co.za https://www.safamily.
co.za/counselling/

Families South Huwelik- en famsa@famsawc.org.za Website


Africa (FAMSA) egskeidingsberading. https://www.famsawc.
org.za

Growing Up Without Uitreike na skole, Charley Pietersen Website


a Father Foundation gevangenisse en pietersenc@gmail.com www.
gemeenskappe. growingupwithoutafather.
org.za
Isiseko Family Bied kursusse aan in Mbulelo Bikwani Website
Institute ouerskap en herstel mbulelo.bikwani@isiseko.org.za www.isiseko.org.za
(herstel ná mislukte
ernstige verhouding).

National Family Berading aan gesinne, Khanyisa Mothema Facebook


Foundation of South paartjies en individue. kteffo@gmail.com @National
Africa FamilyFoundationOfSA

The Fatherhood •Vaderskap-programme Zane Meas Website


Foundation gerig op jong zane@ffsa.org.za https://www.ffsa.org.za
volwassenes, paartjies en
enkelouers.
•Mentorskap vir pa’s in
tronke.

The South African Geestesgesondheid- Sien webtuiste vir dienste en Website


Depression and hulplyne, -steungroepe kontaknommers. https://www.sadag.org
Anxiety Group en -hulpbronne.
(SADAG)
Sexuality Matters Inspireer Andre’ Webster Website
Christenvolgelinge en andre@escc.co.za https://sexualitymatters.
rus hulle toe om ons co.za
oorgeseksualiseerde
wêreld te hervorm.

26 6 Films Besprekingsgids | Vir Kerke


Erkennings
HOOFBYDRAER
Brian Helsby
BYDRAENDE REDAKTEUR
Nevelia Moloi
PROEFLESER
Nikki Metz

VERTALING
Hermien Liebenberg

BYDRAERS
Garth Japhet | Derek Muller | Simone Gregor | Jennifer Charlton |
Seth Naicker | Lereko Mfono
ONTWERP & ILLUSTRASIES
Thabiso Sebata - Start Media
FOTO’S
Indie Village Creative | Kasiimages.co.za | Mark Lewis | Andrew Norgate |
Ayanda Sitole
Kopiereg © The Heartlines Centre, NPC
ISBN 978-0-6399048-6-3
Eerste uitgawe 2022

Alle regte voorbehou. Hierdie publikasie mag vir opleiding-en onderrigdoeleindes gedupliseer
word, maar erkenning en die bron van informasie moet asseblief die gepaste krediet ontvang.

Die projek is moontlik gemaak deur die ondersteuning en vergunning van

Vir meer| fathersmatter@heartlines.org.za


fathersmatter.org.za
Fathers Matter ZA
@HeartlinesZA #FathersMatterZA
WhatsApp: ‘Hi’ to +27 60 058 2107

27
is ’n inisiatief van

THE CENTRE FOR VALUES PROMOTION

www.heartlines.org.za

You might also like