You are on page 1of 30

1

Ken jy die see … - Uys Krige

Ken jy die see …

1 Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?


2 Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur
3 en kalm soos min dinge hier benee,
4 maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

5 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

6 Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind,


7 lyk of dit dae, dae lank sal duur.
8 Maar word dié bries, ‘n bulderende wind,
9 dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

10 En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

11 Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,
12 waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?
13 Die Dood staan voor die deur. Gee hy nog net één tree,
14 dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

15 En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

16 Wat van die storms wat nooit ophou raas?


17 Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,
18 en hoor die wind al woester, wreder blaas.
19 En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.

20 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


2

21 Was jy al van jou bootjie soos ‘n veer gevee


22 deur ‘n grys golf hoog soos ‘n tronk se muur.
23 Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
24 sluk jy eers daardie water sout en suur?

25 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

26 Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?


27 Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
28 Hy vreet mos aan jou ingewande nes ‘n krap.
29 Hy’s koud soos ys, heet soos die hellevuur!

30 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

31 Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?


32 Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
33 ons wat net één ou misstappie moet gee
34 en hy kom tromp-op op ons afgestuur!

35 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

36 Sien jy die krom ou vroutjie daar, mevrou Mathee,


37 wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
38 Sy dink die briesie bring haar seuns betyds vir tee.
39 Hulle slaap aldrie agter die kerkhofmuur.

40 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur...

Ctrl + Klik op die skakel vir ‘n pragtige voorlesing van die gedig deur JJ Roberts op
You Tube:

https://youtu.be/xLwhNLo75VQ

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


3

Agtergrond

Uys Krige het op 15-jarige ouderdom begin gedigte skryf.


• Sy familie het gedurende vakansietye die strandoorde rondom Swellendam
besoek want dit is waar hy grootgeword het.
o Dit is waar sy liefde vir die see vandaan gekom het.

Titel

Die titel is in die vorm van ‘n retoriese vraag.


• Dit impliseer dat die viskoper (mense wat vis koop) nie ‘n idee het van hoe
gevaarlik dit vir die vissers is om op die see uit te gaan en vis te vang nie.
• Ellips – Laat die leser daaroor nadink.
o Die leser voltooi self die gedagte.

Spreker

‘n Visserman/visverkoper is die spreker in die gedig.


@ ‘n Ek-spreker
# Maak dit persoonlik/geloofwaardig.
@ In elke strofe verduidelik die visserman aan watter
gevare ‘n visser blootgestel word wanneer hy op
die see uitgaan om vis te vang.
@ Die visserman praat met ‘n klant (viskoper) wat kla
oor die prys van die vis.
o Die visserman spreek die klant aan as “Meneer”.
Die aanspreekvorm is waarskynlik sarkasties bedoel – en nie
om respek te betoon nie.
Hy verwys ook na die klant as “jy”.
o Die klant is stilswyend – hy praat nie terug nie.

Die gedig lyk soos ‘n gesprek (dialoog), maar die visser herhaal elke keer die klant
se woorde, dus is dit ‘n monoloog/alleenspraak (een persoon wat praat).
• Die spreker voer ‘n gesprek met homself.

Aangesprokene

‘n Viskoper wat kla oor die duur prys van die vis.

Tipografie

Uiterlike bou:
• 8 Strofes.
• Die gedig bestaan uit strofes van 4 reëls elk (kwatryn) met ‘n refrein wat
telkens tussen die strofes voorkom.
• Vaste rympatroon: kruisrym in die kwatryne.
• Reël 2 en 4 van elke kwatryn is altyd UUR wat rym met die woord DUUR.
• Die feit dat die koper sê dat die vis te duur is, word beklemtoon.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


4

Innerlike bou:
• Kwatryn 1 en 2 gee ‘n oorsig oor die vissers se dilemma.
• Kwatryn 3-8 spreek elk ‘n ander probleem aan wat die vissers ervaar.

Refrein

Die herhaling van “ken jy die see” is ‘n frase wat musikaliteit aan die gedig gee.
• Dit versterk die struktuur van die gedig.
• Dit beklemtoon die visserman se ontsteltenis omdat die koper sê die vis is
duur.
• Die refrein bind die gedig tot ‘n eenheid.
• Dit dra die boodskap van die gedig oor.
• Die refrein word 8 keer herhaal, maar wissel die eerste woord “Dan” af met
“En”.

Daar is progressie in die gedig.


• Die see is kalm.
• Dan is daar seestorms en winde.
• Vissersboot is op see in ongure omstandighede.
• Die see neem lewens (hoogtepunt).

Boodskap

Die see is onvoorspelbaar en


• ‘n mens moenie die natuur/see onderskat nie.
• Ons moenie vergeet waardeur vissers moet gaan om die vis te verskaf wat
deur ons geniet word nie.

Rympatroon

Kruisrym : beklemtoon die liriese (sangerige) toon van die gedig.

a
b kruisrym
a
b
Halfrym = alliterasie en assonansie

Beklemtoon die gevaar van die storm / vernietigende krag van die see en die
vissers se vrees.

Toon

Hoe klink die spreker : beskuldigend/ontsteld/seergemaak.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


5

Stemming/Atmosfeer

Morbied/treurig/laat ‘n mens skuldig voel

Leestekens

Verskeie leestekens word gebruik.

• Kommas, ellips, vraagtekens, uitroeptekens, aksenttekens en


aanhalingstekens.
o Aksentteken/uitroepteken: om die woorde te beklemtoon.
o Ellips/vraagtekens: laat die leser dink.
Die gebruik van leestekens wek emosie by die spreker.

Retoriese vrae

Dit beklemtoon dat die persoon met wie gepraat word, nie dit waaroor die spreker
praat, ken nie.
• Hy ken beslis nie die see nie.

‘n Retoriese vraag is ‘n vraag waarop ons nie ‘n antwoord verwag nie.


• Dit kry die leser se aandag.
• Dit laat die leser daaroor nadink.

Enjambement - laat die gedig vloei.

Tema

Die viskoper word deur die visserman verwyt omdat hy kla oor die duur vis.
• Die visserman voer ‘n moeilike bestaan en sy lewe op see is gevaarlik en nie
maklik nie.
• Vissers waag hulle lewens op die see om ‘n inkomste te verdien.
• Die klem val op mense wat baie hard moet werk om hulle brood en botter te
verdien.

NB: Dit gaan nie in hierdie gedig oor hoe gevaarlik die see is nie, maar oor hoe
moeilik die omstandighede is waaronder hierdie vissers moet werk.

Strofe 1

1 Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?

Retoriese vraag.
• Herhaling = suggereer dat die viskoper (klant) nie die see ken nie.
o Dit is waarom die viskoper so kla oor die prys van die vis.
o Die see kan baie bedrieglik wees.
• Die viskoper word direk aangespreek deur die visserman.
o Die viskoper word aangespreek as Meneer.
o “Meneer” is tussen kommas om die woord te beklemtoon.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


6

o Die visserman is amper half sarkasties wanneer hy die viskoper


aanspreek as Meneer.
o Die visserman verwyt die viskoper omdat hy oor die prys van die vis
kla.

2 Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur


3 en kalm soos min dinge hier benee
Vergelyking = die see lyk in versreël 2 en 3 plat en kalm/rustig.
• Die kalm see word vergelyk met ‘n
blinkgeskuurde voorstoep.
• “benee” = benede (onder)
* Die woord “benede” is verkort na
“benee” ter wille van die rym.
* “benee” – hier op aarde/hier langs die
kus/see.

4 maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

“maar” dui op ‘n wending/verandering.

Kontras: Die see is dalk nou kalm, maar is gevaarliker


as ‘n vlam/vuur.
• Die see kan groter skade as ‘n brand aanrig.
• Alhoewel die see kalm lyk, is hy bedrieglik.
o Die see word hier vergelyk met ‘n vlam of
vuur wat op gevaar dui (metafoor).
o Die mag van die bedrieglike see word in die reël beklemtoon.
Alliterasie – herhaling van die “v”-klank beklemtoon die gevaar.

Elisie = hy’s = hy is.


• Help met die ritme van die gedig.

Refrein:

5 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Die refrein word beklemtoon deur


alleenplasing.
• Dit beklemtoon dat die viskoper nie
besef hoe gevaarlik die visserman
se werk is nie.
o Die vissers waag hulle
lewens.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


7

Strofe 2

6 Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind,

Metafoor = Die see is kalmer as ‘n stil soet kind, MAAR


• ons almal weet hoe vinnig dit kan verander.
o ‘n Soet kind kan net so vinnig ook stout wees.
• Die vreedsaamheid kan van korte duur wees.
Die aksentteken op “dié” beklemtoon die kalmte van die see MAAR dit staan in
kontras met hoe vinnig die see kan verander.

Alliterasie van die “s”-klank.


• Dit boots die geruis van die see na.

7 lyk of dit dae, dae lank sal duur.

• Herhaling van “dae” om te beklemtoon dat die kalmte/vrede lank kan duur.
• Alliterasie van die d-klank.

8 Maar word dié bries ‘n bulderende wind,


9 dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

“Maar” dui die kontras aan tussen die kalmte en gevaar. (Wending)

Die ligte windjie (bries) kan baie vinnig in ‘n rasende, woeste wind verander en dit
veroorsaak ‘n onstuimige see wat baie gevaarlik / lewensgevaarlik kan wees.
• Hierdie onstuimigheid/storm kan ure duur net soos die kalmte dae lank kan
aanhou.
• Wanneer die see so onstuimig is, is dit gevaarlik vir die vissers en veg hulle
vir hulle lewens op see.
o Herhaling van “uur” asook die plasing van “uur na uur” aan die einde
van die reël = beklemtoon dat die gevaar vir ure kan duur en
daarmee saam die spanning en vrees.
Inversie (omgekeerde woordorde)

• Personifikasie: bulderende wind – verwys na seestorms en stormwinde.


• Onomatopee/klanknabootsing = bulderende

Alliterasie van b-klank: beklemtoon die hewige winde wat gevaar bring.

Refrein:

10 En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

“jy” = is skuinsgedruk versreël 10 en 15.


• Die visser druk hier sy minagting/ontsteltenis/verontwaardiging uit teenoor die
viskoper wat durf kla oor die vis wat te duur is.
• “jy” verwys na die viskoper.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


8

• Die visser is aanvallend teenoor die “jy”/Meneer (die viskoper).

• Progressie:
- “stil” (r.6) “bulderende” (r.8)
- “bries” (r.8) “wind” (r.8)
- “dae, dae” (r.7) “uur na uur” (r.9)

Strofe 3

11 Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,

“Ja” aan die begin van die versreël beklemtoon die gevaar van die wind.

Alliterasie van die “s”-klank – beklemtoon die gevaarlike wind.

Herhaling van “swart” beklemtoon die slegte omstandighede op die see.


• Konnotatief verwys “swart” na die dood.
• “swart wind” is die Kaapse Suidoostewind wat stormsterk waai.
• “swart nag” = donker en gevaarlik.
o Daar is op so ‘n stormagtige nag geen maan om ‘n bietjie lig te maak
nie.
• “sleep” & “mee” (personifikasie) = saamneem = die gevaar trek jou in.
o Die wind waai die hele nag deur.

12 waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?

“buur” = buurman

Die herhaling van “waar” beklemtoon dat wanneer die wind teen stormsterkte waai
(bitter gevaarlik is) is daar geen hulp van iemand af nie.
• Jy is op jou eie op daardie bootjie op see – heeltemal hulpeloos.
• Die retoriese vraag beklemtoon die vrees van die vissers (ons) hier – hulle
vrees vir hulle lewens.

Intertekstuele verwysing na Psalm 121:1 wat vra: “Waar kom ons hulp vandaan?”
• As gelowiges glo ons dat ons hulp van God af kom.

Assonansie = herhaling van “aa”-klank.


• Vertraag die tempo en beklemtoon dat daar niemand daar naby is om te help
nie.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


9

Waar’s = waar is (Elisie/klankweglating)


• Ter wille van die ritme en rym.

“buur” – buurman/iemand om te help (neighbour)


“buur” i.p.v. bure t.w.v. rym

13 Die Dood staan voor die deur. Gee hy nog net één tree,

Hoofletter van “Dood” = vermenslik die dood (personifikasie).


• Hoofletter van “Dood” = Eienaam.
• Die vissers op die bootjie staar die dood in die oë as die bootjie sou vergaan.
• “swart”, “nag” en “dood” staan in verhouding met mekaar.
• “één” = aksentteken beklemtoon hoe naby die dood is.
o “net” dra ook by tot die gevoel dat die dood bitter naby is.
• “hy” verwys hier na die dood.
• Die dood is die hoofkarakter in hierdie drama – die eindproduk van die
verskriklike storm.

14 dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

“kelder” = vernietig

As hierdie storm net nog een tree gee, net nog ‘n bietjie langer aanhou dan vernietig
hy alles en almal.
• Kelder – vernietig/verwoes
• “koue skuur” = koue van die diep see (metafoor)
o Almal sal in die koue/eensame diep see omkom/verdrink.
o “skuur” = bodem van die see.
• ‘n Boer berg gewoonlik sy voorrade (graan/mielies/koring wat hy geoes het) in
‘n skuur (positief), maar hier het dit ‘n negatiewe konnotasie.
o Die bote/vissers wat in die storm omgekom het, word hier op die
bodem van die koue see geberg.
Alliterasie van die “k”-klank beklemtoon die koue eensaamheid van die diep, donker
see.

“hy” – die dood


“ons almal” - vissers

Progressie: “staan” “tree” “kelder”

Refrein:

15 En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Herhaling van reël 10.


• Versterk die musikaliteit en struktuur van die gedig.
• Die spreker se ontsteltenis met die viskoper word beklemtoon.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


10

Strofe 4

16 Wat van die die storms wat nooit ophou raas?

Retoriese vraag beklemtoon dat wanneer hierdie storms so erg is en nie ophou nie,
kan hulle nie visvang nie.
• Hulle kan nie uitgaan op die see nie.
o Kan nie geld inbring nie.
• “nooit” is gepas want hulle sal regdeur hulle lewe as vissermanne deur
storms geteister word.
o Hiperbool/oordrywing
Daar is dae wanneer die see/wind kalm is.

Personifikasie – die storms raas.


Die mens voel magteloos as die see stormagtig is.

17 Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,

Hier verwys “jy” na die visserman.


• Tydens die storm sit hy vasgekeer in sy klam huis.
o Hy kan nie uitgaan en gaan visvang om vir sy gesin te sorg nie.
• “pal” = gedurig/gereeld
• “guur” = verwys na die storm en koue/onaangename weer.
o Dit is ook onplesierig/koud binne sy huis.

Alliterasie van die “k”-klank.


• Beklemtoon die koue en ongemak wat die visser in sy huis moet verduur.

Parentese/Inlassin: “klam en guur” – ekstra inligting (beskrywing van die atmosfeer


in die huisie)

18 en hoor die wind al woester, wreder blaas.

Alliterasie van die “w”-klank.


• Beklemtoon die wrywing van die wind teen die strukture.
o Hy hoor die woeste wind daarbuite.
Sintuig = gehoor.
• Seestorm word al hoe erger.

Personifikasie: reël 16 en 18.


• Storm wat nie ophou raas nie en
• Wind wat al wreder blaas.

19 En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.

“sprokkel” = stukke droë takke.


• Hy het nie meer hout om die vuur binne sy huisie aan die gang te hou nie.
o Hout is waarskynlik nat van al die reën OF

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


11

o As gevolg van die erge storm wat aaneen woed, kan hulle nie uitgaan
om hout te gaan optel nie.

Herhaling van “en” = polisindeton


• Beklemtoon daardie gevoel van magteloosheid wat die visser ervaar omdat
hy nie kan uitgaan om geld te gaan verdien nie.

“vuur”
• In strofe 1 is die vuur ‘n bedreiging/gevaarlik MAAR
• In strofe 4 is die vuur koesterend/vertroostend.

“daar’s” – elisie/klankweglating (daar is)

Assonansie van ee-klank.

Refrein:

20 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Strofe 5

21 Was jy al van jou bootjie soos ‘n veer gevee


22 deur ‘n grys golf hoog soos ‘n tronk se muur.

Vergelyking:
• Die golf (reël 22) is so hoog soos ‘n tronk se
muur.
* Tronke se mure is baie hoog en ‘n
mens kan nie daaroor klim nie/dit is
ondeurdringbaar.
* Dit beklemtoon dat daar geen
wegkomkans is nie/daar is geen
ontsnaproete nie.
* grys golf – alliterasie van g-klank.
* beklemtoon die gevaarlike see/golwe.

• Die vissers op die bootjie word sommer maklik/vinnig deur die golf oorboord
gegooi (soos ‘n veer (veerlig/baie lig).
o Die mag van die see word met hierdie vergelyking beklemtoon.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


12

o Verkleining van boot na “bootjie” wys ons hoe nietig die boot in
vergelyking met die hoë golwe is.

• Enjambement en alliterasie van die “v”-klank


beklemtoon hoe maklik en vinnig die hoë branders die
vissers van die boot afvee/afslinger/afgooi.
o Enjambement versnel die tempo van die gedig.

Assonansie:
• “o”-klank = “grys golf hoog soos ‘n tronk se muur”
• “ee”-klank = soos ‘n veer gevee”

23 Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”

Hierdie reël beklemtoon net weer eens


die magteloosheid/hulpeloosheid van die
vissers op die vissersboot tydens ‘n erge
storm.
• Na die dubbelpunt volg die direkte
woorde van die vissers.
• Dit help nie eens om te skree nie
want niemand sal jou hoor nie.
• Dit sal ook nie help om te spartel
(heftig te beweeg) nie.
o Daardie brander vee jou sommer
maklik van die boot af.

• As jy skree, gaan jy net meer water sluk.

24 sluk jy eers daardie waters sout en suur?

Alliterasie van die “s”-klank.


• Beklemtoon hoe sleg die water is (sout en suur).
• Meervoud “waters” – hy sluk baie water.
o Beklemtoon ook die massa water wat hom omring.
• “eers” dui aan dat hoe meer jy skree, hoe meer water sluk jy.

Refrein:

25 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


13

Strofe 6

26 Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?

Retoriese vraag:
• Die spreker weet dat die viskoper nie ‘n idee het hoe dit voel nie.
o Die spreker verduidelik dan aan die viskoper hoe dit voel.
‘n Verduideliking volg na hierdie vraag.
• “doodsangs” = baie bang/’n mens is bang om dood te gaan.
o Die angs wat die vissers ervaar, is baie erg.
• Personifikasie = rukwind klap
o Die wind is baie erg.

Alliterasie van k-klank.

27 Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.

“Dié” = verwys na die verskriklike stormwind.

“waansin” = dit maak jou mal.


• Daardie verskriklike wind maak jou mal van vrees en
• “kuur” - medisyne = daar is nie medisyne/teenmiddel wat jy kan neem nie.
• Daar is niks wat jou kan red nie.
o Magteloosheid en hulpeloosheid teen die storms op see/stormwinde
word beklemtoon.
Wanneer die vissers op see is en daardie stormwind begin hoor,
maak dit hulle mal want hulle weet wat kan gebeur – van die
verskriklike doodsgevaar.

28 Hy vreet mos aan jou ingewande nes ‘n krap.

Vergelyking:
• Die vrees/angs wat jy ervaar, eet aan jou binnegoed net soos ‘n krap.
o Versterk/beklemtoon die mag van vrees.
o Die angs/vrees eet aan jou binnegoed.
o Die angs kan jou vernietig.
• “vreet” = personifikasie.
• “hy” = die dood.
• “ingewande” = binnegoed/organe (intestines)
• “krap” = seedier (crab)

29 Hy’s koud soos ys, heet soos die hellevuur!

Kontras/teenstelling tussen koud en warm.


• Hy’s = doodsangs
o Angs laat ‘n mens uitslaan in ‘n sweet van koue en hitte.
“heet” = warm/hitte.
“hellevuur” = negatiewe konnotasie – die vuur van die hel.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


14

o Daardie vrees vir die stormwinde is soos om bang te wees vir die hel –
dit is vreesaanjaend.
Die uitroepteken versterk hierdie
gevoel van angs/vrees.
➢ Ons is almal maar bang
vir die dood.

Elisie/klankweglating = Hy’s = hy is.

Vergelyking: “Hy’s koud soos ys” – die doodsangs


is gevoelloos.
“heet soos die hellevuur!” – so warm soos die vuur van die hel.

Paradoks: ‘n Stelling, voorstel of situasie wat onlogies, absurd of teenstrydig lyk,


maar logies of waar kan wees.

Refrein:

30 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Strofe 7

31 Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?

Herhaling van die titel en versreël 1.


• Beklemtoon die onkunde van die viskoper dat hy nie weet waarvan hy praat
nie.
• Dit beklemtoon ook die bedrieglikheid van die see en hoe gevaarlik hy kan
wees.

32 Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,

Personifikasie.
• Groen van jaloesie – kleur van jaloesie.
o “groen” is ook die donker kleur van ‘n onstuimige see.
• Die see waak amper soos ‘n jaloerse persoon oor sy inhoud (die visse).
o Hy wil nie sy visse met die mens deel nie.
Die see is jaloers.
o Die see “gluur” (glare) – staar die mense aan (negatief)/met ‘n kwaai
oog.
Staar is om stip te kyk (jy kyk nie weg nie).

Alliterasie van g-klank.


Assonansie van oe-klank.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


15

33 ons wat net één ou misstappie moet gee


34 en hy kom tromp-op op ons afgestuur!

“n Mens kan GEEN fout/misstappie op die see maak nie.


• Die see staar die mens aan asof hy net wag dat jy ‘n fout moet begaan.
o Die verkleining wys dat selfs net ‘n klein foutjie gevaarlik kan wees.
o Die oomblik wat jy ‘n fout maak, dan storm hy/die see/die golwe op jou
af.
“tromp-op” = direk/reguit
“afgestuur” = afgestorm

Enjambement dui op die beweging van die golwe wat aaneen kom sonder ophou.

Die uitroepteken beklemtoon die gevoel/emosie van hoe die vissers oor die see voel.

Alliterasie van die “s”-klank – beklemtoon die geluide/klank van die see.

Assonansie van o-klank.

Refrein:

35 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Strofe 8

In die strofe bereik die gedig ‘n hoogtepunt/’n klimaks.

36 Sien jy die krom ou vroutjie daar, mevrou Matthee,

Die spreker betrek die leser meer direk met die woorde “sien jy”.
• Verkleining van “vroutjie” en ook die byvoeglike
naamwoorde “krom ou vroutjie” kry die leser se simpatie.
o ‘n Hartseer toneel word aan ons geskets.
• Hier word nou na ‘n spesifieke persoon verwys – dit is ‘n
realiteit van wat die see kan doen.
o Dit is nie maar net ‘n storie nie.
Die see neem lewens.
Assonansie van die “ou”-klank beklemtoon die ouderdom van die
vrou en hoe lank sy al wag vir haar seuns om terug te kom.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


16

37 wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?

Die herhaling van “ver” dui op die afstand wat die vissers die see
in moet vaar om vis te vang.
• Die aksentteken beklemtoon hoe ver sy die see in soek na haar
kinders.
• “tuur” = Sy kyk stip/sy staar oor ‘n lang afstand oor die see.
• “telkens” = kort-kort/dikwels/gedurig.
o Sy kyk nie net vandag oor die see uit nie, maar sy staar
gedurig/elke dag uit oor die see op soek na haar seuns.

• Assonansie van e-klank.

38 Sy dink dié briesie bring haar seuns betyds vir tee.


39 Hulle slaap aldrie agter die kerkhofmuur.

“briesie” = ligte windjie “kerkhofmuur” = die muur wat om die grafte gebou is.

“briesie bring” = Personifikasie

Dit is ironies dat sy dink die ligte windjie gaan haar seuns huis toe bring, maar hulle
is waarskynlik dood as gevolg van die wind op die see.
• Sy wag vir hulle om terug te kom, maar hulle is al drie dood op die see.
o “aldrie” beklemtoon die wreedheid van die lewe/die tragedie.
Al haar seuns is dood op die see.
• Eufemisme = “hulle slaap”
o Om die aakligheid van die dood te versag.
Sy wil nie glo haar seuns is dood nie.
Alliterasie van b-klank.
Assonansie van a-klank.

Refrein:

40 Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur ...

“nog” = beklemtoon dat die viskoper nog steeds dink dat die vis te duur is, maak nie
saak wat die spreker sê nie.
• Die refrein beklemtoon maar net weer eens die ontsteltenis van die visserman
omdat die viskoper kla oor die prys van die vis.
o Volgens die visserman/spreker is die prys van die vis geregverdig.
Die visserman weet dat die see ook mooi en kalm kan wees,
maar vir hom, wat sy brood en botter met die see verdien, kan
die see ook baie bedrieglik en gevaarlik wees.
➢ Dit is nie altyd maklik nie.

Ellips – die gedagte is onvoltooid.


• Dit laat die leser nadink oor die stryd van die vissers OF

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


17

• Dit beklemtoon dat daar nog baie gesê kan word oor die feit dat die viskoper
oor die prys van die vis kla.

VRAE:

1 Wat word met die titel van die gedig geïmpliseer? (1)

2 Waaroor het die viskoper gekla? (1)

3 Wie is die spreker in hierdie gedig? (1)

4 Wie word in hierdie gedig aangespreek? / Wie is die aangesprokene? (1)

5.1 Wat is die funksie van die ellips in die titel? (1)

5.2 Wat wou die spreker met die gebruik van die ellips in die titel
beklemtoon? Noem TWEE dinge. (2)

6 Hoe betrek die spreker die leser by die gedig? Noem TWEE tegnieke. (2)

7 Skryf die refrein van die gedig neer. (1)

8 Wat is die funksie van die refrein in die gedig? Gee DRIE funksies. (3)

9 Hoe word die refrein in die gedig beklemtoon? (2)

10 Verduidelik die funksie van die gebruik van “nog” in die refrein. (1)

11 Wie is die “jy”/’Meneer” in versreël 1? (1)

12 Kies die korrekte antwoord uit dié tussen hakies. Skryf net die
vraagnommer en antwoord neer.

Versreël 1 is ‘n voorbeeld van ‘n (hiperbool / retoriese vraag). (1)

13 Wat is die funksie van die retoriese vraag in versreël 1? (1)

14 Waarom word “Meneer” met ‘n hoofletter geskryf? (1)

15 Na wie verwys die “hy” in versreël 2? (1)

16 Waarmee word die kalm see vergelyk? (1)

17 Verduidelik versreël 4 in jou eie woorde. (1)

18 Waarna verwys die woorde “voorstoep blinkgeskuur” in versreël 2? (1)

19 Haal EEN WOORD uit strofe 1 aan wat die see as kalm beskryf. (1)

20 Wat word met die woord “nou” in versreël 2 gesuggereer? (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


18

21 Wat is die funksie van die woord “maar” in versreël 4? (1)

22 Watter TWEE woorde in strofe 1 staan in kontras met mekaar? (1)

23 Benoem die beeldspraak in versreël 4. (1)

24.1 Dui die alliterasie in versreël 4 aan. (1)

24.2 Wat is die funksie van die alliterasie in versreël 4? (1)

25 Waarmee word die see vergelyk voor die wind opkom? Noem TWEE
dinge. (2)

26 Waarna verwys “Dié vrede” in versreël 6? (1)

27 Wat is die funksie van die aksentteken op die woord “Dié” in versreël 6? (1)

28 Watter tegniek word gebruik om die kalm see te beklemtoon? (1)

29 Wat is die funksie van die herhaling van “dae” in strofe 2? (1)

30 Kies die korrekte antwoord uit dié tussen hakies. Skryf net die
vraagnommer en antwoord neer.

“... bulderende wind” is ‘n voorbeeld van (personikasie / ‘n metafoor). (1)

31 Dui die progressie aan wat in strofe 2 plaasvind. (2)

32.1 Benoem die halfrym in versreël 8. (1)

32.2 Wat is die funksie van die halfrym in versreël 8? (1)

33 Wat word deur die woord “maar” in versreël 8 gesuggereer? (1)

34 Watter tegniek word in versreël 9 gebruik om te beklemtoon dat die


gevaar vir ure kan aanhou? (1)

35 Haal ‘n frase uit strofe 2 aan wat daarop dui dat die stormwind
lewensgevaarlik kan wees. (1)

36 Waarom word die woord “jy” in versreël 10 en 15 skuinsgedruk/kursief


geskryf? (1)

37 Watter kleur oorheers in strofe 3? (1)

38 Verduidelik die konnotatiewe en denotatiewe betekenis van die woord


“swart” in die gedig. (2)

39 Waarom word die woord “swart” herhaal? (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


19

40 Waarna verwys “swart wind” in versreël 11? (1)

41 Hoe word versreël 12 beklemtoon? (1)

42 Watter afleiding kan ons omtrent die vissers in versreël 12 maak? (1)

43 Wie is die “ons” in versreël 12? (1)

44 Waarom word “Dood” met ‘n hoofletter geskryf? (1)

45 Wat is die uiteinde van hierdie verskriklike storm? (1)

46 Wat is die funksie van die aksentteken op die woord “één” in versreël 13? (1)

47 Na wie verwys die woord “hy” in versreëls 13 en 14? (1)

48 Verduidelik die betekenis van die woord “kelder” in versreël 14. (1)

49 Waarna verwys “koue skuur”? (1)

50 Hoekom, dink jy, is die woord “almal” in versreël 14 ‘n voorbeeld van


‘n hiperbool? (1)

51 Wat is ironies omtrent die gebruik van die woord “skuur” in versreël 14? (2)

52 Dui die progressie aan wat in versreëls 13-14 voorkom. (1)

53 Benoem die beeldspraak in versreël 16. (1)

54 Kies die korrekte antwoord om die sin mee te voltooi. Skryf net die
vraagnommer en letter neer, bv. 54E.

“... nooit ophou raas?” is ‘n voorbeeld van ...

A eufemisme.
B metafoor.
C hiperbool.
D halfrym. (1)

55 Hoekom, dink jy, het die spreker die woord “nooit” in versreël 16 gebruik? (1)

56 Watter WOORD in strofe 2 staan in verband met “raas” in strofe 3? (1)

57 Wie is die “jy” en “jou” in strofe 4? (1)

58 Wat is die gevolge vir die vissers as gevolg van die storm, na aanleiding
van strofe 4? (3)

59 Beskryf die visserman se kliphuisie in jou eie woorde. (2)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


20

60 Haal EEN WOORD aan wat daarop dui dat die visserman nie sy huis
kan verlaat wanneer die weer so onplesierig is nie. (1)

61.1 Kies die korrekte antwoord uit dié tussen hakies. Skryf net die
vraagnommer en antwoord neer.

Versreëls 17-18 : “Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur, en hoor ...”

Die gedeelte tussen hakies “klam en guur” is ‘n voorbeeld van ‘n


(hiperbool / parentese). (1)

61.2 Verduidelik die funksie van jou antwoord in VRAAG 61.1. (1)

62 Wat is die funksie van die allitererende klanke in versreël 18? (1)

63 Gee ‘n voorbeeld van personifikasie in versreël 18. (1)

64 Waaruit kan ons aflei dat die vissermanne van wie hier in strofe 4
gepraat word, nie elektrisiteit gehad het nie? (1)

65 Watter moontlike gevolge het dit vir die vissers gehad dat hulle nie
vuur kon maak nie? Noem TWEE gevolge. (2)

66.1 Watter stylfiguur kom voor in die woord “daar’s”? (1)

66.2 Wat is die funksie van die stylfiguur in VRAAG 66.2? (1)

67 Waarom is die gebruik van die verkleiningsvorm van “bootjie” so


effektief/geslaagd? (1)

68.1 Waarmee word die visserman in versreël 21 vergelyk? (1)

68.2 Hoekom is die gebruik van dié vergelyking hier so gepas? (1)

69 Hoekom is dit ‘n “grys” golf en nie ‘n “blou” golf nie? (1)

70.1 Waarmee word die golf in versreël 22 vergelyk? (1)

70.2 Hoekom is hierdie vergelyking so gepas? (1)

71 Wat is die funksie van die dubbelpunt in versreël 23? (1)

72 Wat is die funskie van die uitroeptekens in versreël 23? (1)

73 Waarom is die gebruik van die woord “eers” in versreël 23 gepas? (1)

74 Waarna verwys “sout” in versreël 23? (1)

75 Wat, dink jy, kan die konnotatiewe betekenis van “suur” in versreël 23

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


21

wees? (1)

76 Waarom, dink jy, word die “grys golf” met ‘n tronk se muur vergelyk en
nie met ‘n huis se muur nie? (1)

77 Waarna verwys “doodsangs” in versreël 26? (1)

78 Haal ‘n WOORD uit strofe 6 aan wat na doodsangs kan verwys. (1)

79 Wat is die waansin waarna versreël 27 verwys? (1)

80 Gee ‘n voorbeeld van onomatopee uit strofe 6. (1)

81 Skryf ‘n versreël uit strofe 6 neer war daarop dui dat daar geen manier
is dat die visserman gered kan word nie. (1)

82 Wie is die “hy” na wie in versreël 28 verwys word? (1)

83 Wat is die gevolg van die doodsangs vir die visserman? (1)

84 Wat vreet aan die visserman se ingewande? (1)

85 Waarmee word die vrees wat die visserman waansinnig maak, vergelyk? (1)

86 Waarom is die gebruik van die woord “krap” so effektief? (1)

87 Met watter DRIE verskillende dinge word die doodsangs in strofe 6


vergelyk? (3)

88 Skryf die TWEE woorde in versreël 29 neer wat in kontras met mekaar
staan. (1)

89 Kies die korrekte antwoord uit dié tussen hakies. Skryf net die
vraagnommer en antwoord neer.

Die stylfiguur wat in reël 29 voorkom is ‘n voorbeeld van ‘n


(paradoks / hiperbool). (1)

90 Wat is die funksie van die herhaling van die titel in versreël 31? (1)

91 Wie is die “hy” in strofe 7? (1)

92 Wie is die “ons” in strofe 7? (1)

93 Waarom, dink jy, sal die see jaloers op die vissers wees? (1)

94.1 Benoem die halfrym in versreël 32 en dui dit aan. (1)

94.2 Wat is die funskie van die halfrym in VRAAG 94.1? (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


22

95 Watter emosie word met groen geassosieer? (1)

96 Haal ‘n WOORD uit strofe 7 aan wat dieselfde betekenis het as


“kwaai aankyk”. (1)

97 Hoekom, dink jy, sal die see se oë as groen beskryf word? (1)

98 Gee ‘n WOORD uit strofe 7 wat dieselfde beteken as “’n klein foutjie”. (1)

99 Wat is die funksie van die aksenttekens op “één” in versreël 33? (1)

100 Hoekom, dink jy, het die spreker die woorde “ou” en die
verkleiningsvorm “misstappie” in versreël 33 gebruik? (1)

101 Wat is die funksie van die enjambement in strofe 7? (1)

102 Wat wil die spreker bereik deur die gebruik van die woorde “Sien jy ..”
in strofe 8? (1)

103 Hoe kry die spreker dit reg om simpatie by die leser te wek vir Mevrou
Matthee? (1)

104 Van watter tegniek maak die spreker gebruik om die leser te kry om
simpatie vir mev. Matthee te hê? (1)

105 Verduidelik die denotatiewe en konnotatiewe betekenis van “krom” in


versreël 36. (2)

106 Wat is die funksie van die parentese in versreël 36? (1)

107 Watter WOORD in strofe 8 dui aan dat mev. Matthee kort-kort op die see
uitkyk vir haar seuns om terug te keer? (1)

108 Wat is die funksie van die herhaling en aksentteken op “vér”? (1)

109 Verduidelik “briesie” in versreël 38 in jou eie woorde. (1)

110 Wat is ironies oor die gebruik van die woord “briesie”? (2)

111 Hoe word “briesie” in versreël 38 beklemtoon? (1)

112 Wat word gesuggereer met “slaap” in versreël 39? (1)

113 Waarom word die woord “slaap” in plaas van “dood” gebruik? (1)

114 Hoe is mevrou Matthee se seuns dood? (1)

115 Kies die korrekte antwoord uit dié tussen hakies. Skryf net die
vraagnommer en antwoord neer.

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


23

“Hul slaap aldrie agter die kerkhofmuur.” - Versreël 39 is ‘n voorbeeld van


(‘n hiperbool / eufemisme). (1)
116 Hoeveel seuns het mevrou Matthee gehad? (1)

117 Hoekom voel die leser jammer vir mevrou Matthee? (1)

118 Waaruit kan ons aflei dat mevrou Matthee nie kan glo dat sy nie weer
haar seuns gaan sien nie? (1)

119 Waarom kan strofe 8 as die klimaks/hoogtepunt van die gedig beskou
word? (1)

120 Dui die ironie aan wat in versreëls 38-39 voorkom. (2)

121 “kerkhofmuur” (versreël 39) hou verband met “tronk se muur” versreël 22.

Motiveer waarom hierdie stelling KORREK is. (1)

122 Waarom is die gebruik van die woorde “krom ou vroutjie” in versreël 36,
so gepas? (1)

123 Haal TWEE opeenvolgende woorde uit strofe 8 aan wat daarop dui dat
mevrou Matthee se seuns dood is. (1)

124 Wat is die funksie van die ellips/beletselteken aan die einde van
versreël 40? (1)

125 Hoekom dink die spreker dat die vis nie te duur is nie? (1)

126 Voltooi die sin deur die korrekte woord neer te skryf. Skryf net
die vraagnommer en antwoord neer.

Hierdie gedig is in die vorm van ‘n ... geskryf want die spreker praat alleen.(1)

127 Waarom kan ons sê dat die gedig ‘n ballade is? (1)

128 Gee DRIE voorbeelde van onomatopee uit die gedig. (3)

129 Benoem die rymskema in die gedig. (1)

130 Dui die progressie aan wat in die hele gedig plaasgevind het. (3)

131 Dink jy hierdie spreker het die viskoper oortuig dat sy vis nie te duur
is nie? Motiveer jou antwoord. (1)

132 Sal jy hierdie woorde van die visserman onthou as jy vis koop en dink
dat dit te duur is? (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


24

ANTWOORDE:

1 Die gewone mens op straat ken nie die gevare van die see nie. (1)

2 Die vis is te duur./Die prys van die vis. (1)

3 Die visserman/’n visser. (1)

4 Iemand wat vis wil koop/viskoper. (1)

5.1 Dit laat die leser oor die vraag nadink. (1)

5.2 * Hy wil die visserman se ontsteltenis met die viskoper wat dink die vis is te
duur, beklemtoon.
* Hy beklemtoon die viskoper se onkunde oor hoe gevaarlik die werk van
‘n visserman op see kan wees. (2)

6 * Die gebruik van die retoriese vrae.


* Persoonlike voornaamwoord “jy”. (1)

7 “En jy sê nog, Meneer, die vis is te duur” / “Dan sê jy nog, Meneer, die vis
is te duur.” (1)

8 * Dit dra die boodskap van die gedig oor.


* Bind die gedig tot ‘n eenheid.
* Dit beklemtoon die visserman se ontsteltenis omdat die koper sê die vis
is duur. (3)

9 * Alleenplasing
* die herhaling elke keer van “nog”. (2)

10 Nadat die visserman die viskoper ingelig het oor hoe gevaarlik sy werk op
see is, kla die viskoper nog steeds oor die duur vis. (1)

11 Die viskoper/die persoon wat dink die vis is te duur. (1)

12 retoriese vraag (1)

13 Om die onkunde van die viskoper oor die see te beklemtoon/om te


beklemtoon hoe gevaarlik die see is. (1)

14 Dit is ‘n aanspreekvorm/Eienaam. (1)

15 Die see. (1)

16 blinkgeskuurde voorstoep (1)

17 Die see is baie bedrieglik - die see mag kalm lyk, maar is gevaarliker as ‘n
vuur/ Die see kan erger skade as ‘n brand veroorsaak. (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


25

18 Die kalm see. (1)

19 “blinkgeskuur” (1)

20 Die see lyk nou baie kalm, maar dit kan baie vinnig verander. (1)

21 Dit dui op ‘n kontras/wending – kalm teenoor gevaarlik. (1)

22 “kalm” vs “gevaarlik” (1)

23 Metafoor (1)

24.1 “gevaarliker as vlam of vuur” (1)

24.2 Beklemtoon hoe gevaarlik die see is. (1)

25 * ‘n blinkgeskuurde voorstoep en
* stil, soet kind (2)

26 Die kalm see (1)

27 Dit beklemtoon die kalm see. (1)

28 Die aksentteken op “Dié”. (1)

29 Dit beklemtoon dat die see vir dae (lank) kalm kan wees. (1)

30 personifikasie (1)

31 * bries – bulderende wind


* dae – uur na uur (2)

32.1 alliterasie = herhaling van die “d”-klank. (1)

32.2 Dit beklemtoon hoe die ligte windjie in ‘n stormwind kan verander. (1)

33 “Maar” dui ‘n kontras/wending aan = die kalm wind kan verander


in ‘n stormwind. (1)

34 Inversie / Omgekeerde woordorde (1)

35 “dan veg jy vir jou lewe” (1)

36 Beklemtoon die ontsteltenis/verontwaardiging van die visserman teenoor


die viskoper wat kla oor die prys van die vis. (1)

37 swart (1)

38 Konnotatief = swart dui op die dood

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


26

Denotatief = dit is donker, ‘n mens kan niks sien nie (daar is geen
maan of sterre om lig te gee nie). (2)

39 Dit beklemtoon die gevaarlike/slegte omstandighede van die visserman op


see. (1)

40 Die Kaapse suidoostewind wat stormsterk waai. (1)

41 Met ‘n retoriese vraag. (1)

42 Die vissers is alleen op die see met niemand naby om hulle te help nie. (1)

43 Die vissers. (1)

44 Dit is ‘n eienaam/om dit te vermenslik/die dood kry menslike


eienskappe/die dood is die hoofkarakter. (1)

45 Die vissers sterf op see. (1)

46 Dit beklemtoon hoe naby die vissers aan die dood is. (1)

47 Die dood (1)

48 “kelder” beteken om te vernietig/verwoes. (1)

49 Die diep koue see / die bodem van die see. (1)

50 Almal (al die vissers) sterf nie elke keer wanneer daar ‘n storm is nie. (1)

51 ‘n Boer berg sy voorrade wat hy geoes het in sy skuur (positiewe


konnotasie), maar hier is dit negatief want die koue see berg die vissersbote
en vissers wat in die storm omgekom het. (2)

52 “staan” = “tree” = “kelder” (1)

53 personifikasie (1)

54 C / hiperbool (1)

55 Die spreker wil beklemtoon dat die vissers hulle lewe lank deur storms
gepla sal word. (1)

56 “bulderende” (1)

57 Die vissers (1)

58 * Die vissers se huisies is klam/nat en koud.


* Hulle sit “pal”/die hele tyd by die huis en kan nie uitgaan om vis te vang
en ‘n inkomste verdien nie.
* Hulle het nie meer droë hout om vuur te maak nie. (3)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


27

59 Sy huisie is nat en koud/onplesierig. (2)

60 “pal” (1)

61.1 parentese (1)

61.2 Dit gee ekstra inligting oor die kliphuisie, nl. dat dit nat en koud binne is. (1)

62 Beklemtoon die krag van die wind/hoe erg die wind waai. (1)

63 Die wind blaas. (1)

64 Hulle was bekommerd oor die feit dat hulle nie hout gehad het om mee
vuur te maak nie. (1)

65 * Hulle kon moontlik nie kos maak nie.


* Hulle het koud gekry – vuur het hulle warm gehou.
* Dit was donker want hulle kon nie vuur maak om ‘n bietjie lig te maak nie.(2)

66.1 Elisie/klankweglating (1)

66.2 Dit word gebruik ter wille van die ritme in die gedig. (1)

67 Dit beklemtoon hoe weerloos die boot teenoor die magtige see en
storm is. (1)

68.1 Met ‘n veer – hy is so lig soos ‘n veer. (1)

68.2 Dit beklemtoon net weer eens die weerloosheid/magteloosheid


van die visserman tydens ‘n storm op die see / beklemtoon hoe maklik
dit vir die stormwind is om die visser van die boot af te blaas/waai. (1)

69 “grys” dui op die storm/gevaar terwyl “blou” kalm en rustig is. (1)

70.1 Met ‘n tronk se muur. (1)

70.2 ‘n Tronk se muur is baie hoog en ondeurdringbaar / ‘n tronk hou ‘n


mens gevange en die golwe is so hoog dat dit die vissermanne gevange
hou en hulle kan nie daar uit kom nie. (1)

71 Die direkte woorde van die vissers volg. (1)

72 Dit beklemtoon die vrees van die vissermanne. (1)

73 Dit beklemtoon dat as jy skree, gaan jy net meer water sluk. (1)

74 Die seewater. (1)

75 Die seewater is gevaarlik. (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


28

76 ‘n Huis se muur is nie so hoog nie en jy kan daaroor klim of jouself red,
maar ‘n tronk se muur hou jou gevange en daar is nie ‘n kans om uit te
kom nie. (1)

77 Die vrees om dood te gaan. (1)

78 “waansin” (1)

79 Die vrees van die visserman om dood te gaan. (1)

80 Die wind wat klap. (1)

81 “Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.” (1)

82 Waansin/doodsangs (1)

83 Hy raak mal van die vrees/waansinnig. (1)

84 Die vrees/doodsangs (1)

85 Met ‘n krap wat aan jou ingewande/binneste vreet. (1)

86 ‘n Krap is ‘n dier van die see. (1)

87 * met ‘n krap wat aan jou ingewande vreet.


* met koue ys
* met die hitte van die hel se vuur (3)

88 “koud” vs “heet” / “ys” vs “hellevuur” (1)

89 paradoks (1)

90 Dit beklemtoon die visserman se verontwaardiging dat die viskoper kla oor
die vis se prys / dit beklemtoon die viskoper se onkunde oor die see. (1)

91 Die see (1)

92 Die vissermanne/vissers (1)

93 Die vissers vat wat aan die see behoort (die visse) (1)

94.1 “groen jaloerse oë” = assonansie


“groen jaloerse oë na ons gluur” = alliterasie (1)

94.2 Dit beklemtoon die aggressie van die see. (1)

95 jaloesie (1)

96 “gluur” (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


29

97 Dit is die kleur van die see wanneer hy onstuimig is/wanneer daar
‘n storm is. (1)

98 “misstappie” (1)

99 Dit beklemtoon dat net een fout die vissermanne se lewe kan eis. (1)

100 Dit beklemtoon dat die vissermanne nie ‘n kans het teen die magtige
see nie. (1)

101 Enjambement dui op die beweging van die golwe wat aaneen kom
sonder ophou. (1)

102 Dit betrek die leser by die vraag. (1)

103 Hy beskryf haar as ‘n krom, ou vroutjie. (1)

104 Verkleiningsvorm – vroutjie (1)

105 Denotatief: krom beteken hier dat sy al oud is – sy loop geboë.


Konnotatief: sy is dalk al krom getrek deur al die hartseer. (2)

106 Dit gee vir ons die ekstra inligting oor wie die krom ou vroutjie is, nl.
mevrou Matthee. (1)

107 “telkens” (1)

108 Beklemtoon dat sy ver, baie diep en soekend oor die see uitkyk om te
sien of sy haar seuns kan sien aankom op hulle boot. (1)

109 Dit is ‘n ligte windjie. (1)

110 ‘n Briesie is ‘n ligte wind wat kan verander in ‘n stormwind en dit is ironies
dat sy dink die ligte windjie gaan haar seuns huis toe bring, maar hulle is
waarskynlik dood as gevolg van die wind op die see. (2)

111 Met die aksentteken op “dié”. (1)

112 Mevrou Matthee se seuns is dood. (1)

113 Dit versag die dood – laat dit nie so verskriklik/erg klink nie. (1)

114 Hulle het in die see verdrink. (1)

115 eufemisme (1)

116 drie (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …


30

117 Sy het aldrie haar seuns aan die dood afgestaan en sy is waarskynlik nou
alleen oor in die wêreld. (1)

118 Elke dag tydens teetyd kyk sy uit oor die see of sy nie haar seuns se boot
kan sien aankom nie. (1)

119 Hier kry ons ‘n spesifieke voorbeeld van hoe die see lewens vat. (1)

120 Die vroutjie wag vir haar seuns om huis toe te kom vir tee, maar hulle is al
drie dood. (1)

121 Albei wys vir ons dat die vissermanne uitgelewer is aan die see se genade.
(1)
122 Dit laat die leser jammer voel vir mevrou Matthee. (1)

123 “Hul slaap” (1)

124 Dit laat die leser nadink/wonder oor die moeilike lewe van die visserman
op see. (1)

125 Vissermanne moet soms ‘n baie gevaarlike see trotseer om vis in die hande
te kry en soms betaal hulle met hulle lewens. (1)

126 monoloog (1)

127 Dit beskryf die lewe van ‘n visserman/sy lief en leed. (1)

128 * “bulderende”
* “raas”
* “klap” (3)

129 kruisrym (1)

130 * Eers was die see kalm


* Dan kry ons die stormwind op see wat die see baie gevaarlik maak
* Die vissermanne wat op see sterf (die hoogtepunt) (3)

131 Ja, ek dink so want die viskoper het baie oortuigend vertel van al die gevare
op see en hoe moeilik hulle lewens op see kan wees. (Eie relevante
antwoord) (1)

132 Ja, ek sal twee keer dink voor ek weer kla oor die prys van vis. Die spreker
het daarin geslaag om simpatie by my te kry vir die moeilike lewe van ‘n
visserman. (eie relevante antwoord) (1)

Graad 12 EAT – Ken jy die see …

You might also like