You are on page 1of 75

PVL2602/501/3/2016

Studiebrief 501/3/2016

Erfreg
PVL2602

Semesters 1 & 2

Departement Privaatreg

BELANGRIKE INLIGTING

Hierdie studiebrief bevat belangrike


inligting oor die module.
INHOUDSOPGAWE

Bladsy

Inhoud

INLEIDING .................................................................................................................................................3

STUDIE-EENHEID 1: Inleiding ...................................................................................................................6

STUDIE-EENHEID 2: Intestate Erfopvolging ...........................................................................................10

STUDIE-EENHEID 3: Testate Erfopvolging – Algemene reëls ................................................................20

STUDIE-EENHEID 4: Testeerbevoegdheid .............................................................................................23

STUDIE-EENHEID 5: Testamentformaliteite ...........................................................................................26

STUDIE-EENHEID 6: Herroeping en Herlewing van Testamente ...........................................................29

STUDIE-EENHEID 7: Bevoegdheid om te erf ..........................................................................................32

STUDIE-EENHEID 8: Testeervryheid ......................................................................................................38

STUDIE-EENHEID 9: Inhoud van Testamente – Bemakings, Voorwaardes,die Modus en


..............................Boedelsamesmelting ...........................................................................................42

STUDIE-EENHEID 10: Inhoud van Testamente – Substitusie, Vruggebruik en Aanwas ........................51

STUDIE-EENHEID 11: Inhoud van Testamente – Trusts ........................................................................60

STUDIE-EENHEID 12: Inbring .................................................................................................................65

STUDIE-EENHEID 13: Uitleg van Testamente ........................................................................................67

STUDIE-EENHEID 14: Kontraktuele Erfopvolging ...................................................................................70

STUDIE-EENHEID 15: Gewoontereg en die Reform of Customary Law of Succession Act (RCLSA).....72

STUDIE-EENHEID 16: Boedelbereddering ..............................................................................................73

2
PVL2602/501

INLEIDING
Geagte Student
Welkom by die module oor erfreg. Ons hoop dat u studie van hierdie vertakking van die reg vir u
’n positiewe leerervaring sal wees. Die doel van hierdie module is om aan u ’n algemene kennis
van die beginsels van erfreg, wat ’n integrerende deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse reg, te
gee. As u hierdie module bemeester het, sal u die nodige kennis en vaardighede besit om
regsprobleme op enige gebied van die privaatreg waar erfreg ’n rol speel, te kan identifiseer en
evalueer. Hierdie module dek die basiese beginsels van die erfreg wat u moet bemeester om
testamente en bestorwe boedels in die praktyk te hanteer.
U voorgeskrewe studiemateriaal vir hierdie module is:
• Jamneck J, Rautenbach C, Paleker M, Van der Linde A, Wood-Bodley M Erfreg in Suid-
Afrika 2 de uitgawe (2012) Oxford University Press, Kaapstad. (Ons sal na hierdie boek
in die teks verwys as J&R.)

• Cronjé DSP & Roos A Erfreg Vonnisbundel/Casebook on the Law of Succession 4de
uitg (2002) Unisa, Pretoria.

• ’n Aantal studiebriewe met algemene inligting, kommentaar op die werkopdragte en


inligting oor die eksamenformaat.

• Onthou dat studiebriewe deel uitmaak van u studiemateriaal vir die werkopdragte en
die eksamen. Hulle is net so belangrik soos die handboeke. Lees elke studiebrief
aandagtig, bestudeer dit behoorlik, en bewaar dit vir latere verwysing.

Die leeruitkomste vir hierdie module is die volgende:


• Hoe om die rol van erfreg in die alledaagse lewe te herken
Nadat u hierdie module bemeester het moet u die rol van erfreg in die alledaagse lewe kan
herken. Dit beteken dat u die belangrikste huidige vraagstukke ten aansien van erfreg in die
Suid-Afrikaanse konteks moet kan identifiseer en begryp. U moet ook kan aantoon dat u hierdie
vraagstukke in verskillende kontekste in werklike en denkbeeldige scenario’s kan identifiseer en
dat u verwante probleme kan oplos.
• Kennis van definisies ten aansien van die erfreg
U moet definisies van konsepte wat met erfreg verband hou van buite ken, want hulle vorm die
basis van u kennis en begrip van die erfreg. U moet hulle dus uiters deeglik bestudeer. As u
hulle nie ken nie, sal u hierdie module nie kan bemeester nie.
• Kennis oor hoe om regstekste oor erfreg te lees en verstaan
U moet kan aantoon dat u hofuitsprake met die nodige begrip kan lees sodat u die
regsbeginsels wat daarin vervat is, kan verstaan en toepas. U moet ook kan aantoon dat u
hofbeslissings wat met erfreg verband hou, kan interpreteer.

3
• Akademiese kennis en vaardighede om ’n loopbaan in die reg te kan volg
Na voltooiing van hierdie module moet u ’n deeglike kennis en begrip hê van erfreg, asook
beskik oor die vereiste vaardighede om u teoretiese kennis te kan toepas op probleemsituasies
in u werksomgewing. U moet kan aantoon dat u regsdokumente wat met erfreg verband hou
kan interpreteer en partye kan adviseer en verteenwoordig in erfregsake.

Wenke vir die studie van hierdie module


• Definisies vorm die basis van u kennis en begrip van die erfreg en daarom moet u hulle van
buite ken. As u nie dié definisies ken nie, sal u hierdie module nie kan bemeester nie.

• Moenie die bewoording van die definisies verander nie want u kan sodoende die betekenis
van die definisie verander, sodat dit verkeerd is! Leer die definisies net soos hulle in die
voorgeskrewe boek voorkom.

• Maak seker dat u die definisies kan neerskryf sonder om weer in die handboek te kyk.

• Dit is uiters belangrik om alle terminologie korrek te gebruik. U wil tog nie in die eksamen
antwoorde verkeerd hê net omdat u nie die regte woorde gebruik nie! Neem byvoorbeeld die
terme “nie in staat nie” (incapable) en “onbevoeg” (incompetent): ’n persoon kan “in staat”
wees om ’n voordeel te neem (dws dit is vir hom moontlik) maar die reg kan hom as
“onbevoeg” beskou, met ander woorde weier om hom die voordeel te laat toeval omdat hy
byvoorbeeld die testateur vermoor het. Dit is dus uiters belangrik dat u die korrekte
terminologie gebruik.

• Let daarop dat alhoewel ons in die handboek na baie verskillende hofsake verwys, u slegs
daardie sake moet bestudeer wat by elke studie-eenheid voorgeskryf word asook die sake
wat in Studiebrief 101 voorgeskryf word. In Studiebrief 101 kry u ook ’n volledige lys van
hierdie hofsake. U hoef ook nie die volledige verwysing te ken nie (bv Ex parte Graham 1963
(4) SA 145 (D)). U hoef slegs die naam te ken, met ander woorde Ex parte Graham. Let ook
op dat die aantekeninge oor die hofsake in die voorgeskrewe vonnisbundel (Cronjé & Roos –
sien Studiebrief 101) uiters belangrik is want hulle dien nie slegs as opsomming van die
uitspraak in elke saak nie, maar gee ook ’n uitvoerige bespreking van die saak en kritiek teen
die saak. Die aantekeninge moet dus ook deeglik bestudeer word.

• Aan die einde van elke hoofstuk is daar ’n opskrif wat lui: “Hierdie Hoofstuk opgesom”. U
hoef die inhoud daarvan nie te leer nie, maar lees dit deur aangesien dit ’n oorsig gee van
wat in daardie hoofstuk behandel is.

• As u hierdie module afgehandel het, behoort u nie net ’n deeglike kennis te hê van elke
hoofstuk nie, maar ook ’n oorsigtelike beeld van erfreg in die geheel. U moet dus in staat
wees om ’n vraag te beantwoord wat byvoorbeeld die beginsels wat in Hoofstuk 2, 3, 10 en
11 of in Hoofstuk 1, 3, 8 en 12 behandel is, te beantwoord. Nie dat ons dit so sal vra nie,
maar u behoort selfs een enkele vraag te kan beantwoord wat die hele module dek.

4
PVL2602/501

Wenke oor beantwoording van eksamenvraestelle


• Benader altyd die vrae in die eksamen asof u die regsbeginsels aan ’n kliënt verduidelik wat
geen kennis van die reg het nie.

• As u ’n spesifieke konsep bespreek, gee altyd ’n definisie want dit verdien dadelik vir u punte!
Moet nooit ’n voorbeeld gee as dit nie spesifiek gevra word nie. Ons vind dat studente
dikwels verkeerde voorbeelde gee en dan punte verloor. Verduidelik eerder die konsep en
moenie u eie scenario as voorbeeld skep nie.

• As u gevra word om net een woord of ’n kort sinnetjie as antwoord te verskaf, doen net dit.
Moenie meer skryf as wat gevra word nie.

• As u net “waar” of “vals” op ’n stelling moet antwoord, moenie redes vir u besluit gee nie.
Maar as u wel ’n rede gevra word, waak daarteen om te skryf: “Die stelling is waar, maar . . .”
Onthou dat as u ’n stelling moet kwalifiseer deur te sê “maar”, dan kan dit nie meer waar
wees nie!

Ons wens u graag alle sukses met u studie.


U dosente vir PVL2602.

5
STUDIE-EENHEID 1: INLEIDING
OORSIG
Hierdie studie-eenheid is ’n algemene inleiding tot die erfreg in Suid-Afrika aangesien dit handel
oor die aard, omvang en toepassing van hierdie vertakking van die reg. Erfreg skryf die
regsreëls voor wat bepaal wat met ’n persoon se boedel moet gebeur na sy of haar afsterwe.
Erfopvolging vind plaas volgens ’n testament (testate erfopvolging), kragtens die intestate
erfreg, of ooreenkomstig ’n kontrak (pactum successorium).

DUS:
In hierdie module gaan ons die volgende vrae beantwoord:
• Wat gebeur as ’n persoon sonder ’n testament te sterwe kom?
• Wie mag ’n testament maak?
• Hoe stel mens ’n geldige testament op?
• Wat moet mens doen as jy nie meer wil hê dat jou testament die laaste testament moet
wees nie?
• Wie mag ingevolge ’n testament voordeel trek?
• Watter tipe bepalings mag in ’n testament voorkom?
Die antwoorde op hierdie vrae sal u toerus met ’n basiese kennis van die erfreg. Natuurlik sal
meer uitvoerige kennis van u verwag word soos wat hierdie vrae in meer besonderhede in die
verskillende studie-eenhede behandel word.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) die belangrikste terme ten aansien van erfreg te kan lys, definieer en toepas
(2) te kan verduidelik hoe die agtergrond tot die erfreg die plek van dié dissipline binne die
regstelsel bepaal
(3) die inhoud en toepasbaarheid van die gemeenregtelike erfreg en die gewoonteregtelike
erfreg te kan vergelyk
(4) die basiese reëls ten aansien van erfopvolging te kan verduidelik en met relevante
voorbeelde te kan illustreer

6
PVL2602/501

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 1: INLEIDING

Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 1.1– 1.2 (pp1–2)•


–– Lees par 1.3–1.4 (pp3–8, net voor par 1.5) om ’n begrip te kry van die verband tussen
gemeenregtelike en gewoonteregtelike erfreg

 Par 1.5 (pp8–16):


Let daarop dat die terminologie in par 1.5 uiters belangrik is. U moet al die definisies van
buite ken. Daar is ’n verkorte definisie van ’n trust in Hoofstuk 11, wat u kan leer in plaas van
die definisie op p15.
Bestudeer dan verder:

 Par 1.6 (pp16 –20)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID

1 Par 1.1–1.5 ALGEMENE AGTERGROND – ERFREGTERMINOLOGIE

HOFSAAK: Bestudeer
Bhe v Magistrate, Khayelitsha (Commission For Gender Equality as Amicus Curiae); Shibi v
Sithole; South African Human Rights Commission v President of the Republic of South Africa
2005 (1) SA 580 (KH) (soos bespreek in in J&R).
Par 1.5 bevat ’n lys uiters belangrike definisies vir u studie van die erfreg. As u hulle nie van
buite ken nie, sal u nie u weg deur die studie van hierdie module met sukses kan baan nie. Die
lys is op so ’n manier opgestel en gedruk dat u die een kant met iets kan toehou sodat u self die
term of die definisie kan neerskryf. Sien asseblief “Wenke vir die studie van hierdie module”
in die inleiding tot hierdie studiegids vir meer inligting oor hoe om hierdie definisies te benader.

2 Par 1.6 FUNDAMENTELE REËLS VAN ERFOPVOLGING

HOFSAKE: Bestudeer
Ex parte Graham 1963 (4) SA 145 (D)
Estate Orpen v Estate Atkinson 1966 (4) SA 589 (A)
Een van die belangrikste fundamentele reëls van erfreg is dat ’n persoon moes gesterf het
voordat sy boedel verdeel kan word. Daar is enkele uitsonderings op hierdie reël, naamlik
boedelsamesmelting (sien hfst 8) of situasies waar ’n persoon verdwyn het en nie gevind kan

7
word nie. Sien pp17–19 vir voorbeelde. Maak seker dat u al die fundamentele reëls en
uitsonderings ken.

AKTIWITEIT
Aangesien Hoofstuk 1 fokus op die belangrikste definisies in erfreg, moet u seker maak dat u al
die definisies, soos hierbo aangedui, van buite ken. Beantwoord ook die volgende vrae ter
voorbereiding vir die aktiwiteite in die volgende studie-eenhede.
(1) Lees die voorbeeld in J&R p18 en Ex parte Graham 1963 (4) SA 145 (D).
Beantwoord dan die volgende vrae:
(1.1) Wie sal Xavier se boedel erf as hy eerste sterf?
(1.2) Wie sal Brenda se boedel erf as sy eerste sterf?
(1.3) Wie sal uiteindelik erf as Xavier eerste sterf en Brenda een maand later?
(1.4) Wie sal uiteindelik erf as Brenda eerste sterf en Xavier een week later?
(1.5) Geld daar enige regsvermoedens ten opsigte van wie eerste gesterf het as die
lede van ’n gesin in omstandighede gesterf het waar dit moeilik is om te bepaal
wie eerste gesterf het?
(1.6) Wat sal gebeur as dit onmoontlik is om vas te stel wie eerste gesterf het?
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Bestudeer die fundamentele reëls oor wanneer iemand
mag erf voordat u hierdie vrae probeer beantwoord. Lees ook Ex parte Graham 1963 (4) SA
145 (D) aandagtig in die Vonnisbundel. Maak ’n kort opsomming van die feite sodat u weet wat
in die beslissing gesê is oor vermoedens ten aansien van die volgorde van die dood. Bestudeer
ook die “Aantekening” in die Vonnisbundel.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het u die belangrikste definisies wat in erfreg voorkom, geleer. U het
ook enkele fundamentele reëls van die erfreg leer ken, byvoorbeeld, dat ’n persoon moes
gesterf het voordat sy of haar boedel onder die bevoordeeldes verdeel kan word en dat daar
geen regsvermoedens bestaan oor die volgorde waarin hulle gesterf het nie.
Ken u die fundamentele reëls vir erfopvolging na u studie van hierdie studie-eenheid?
Doen die volgende om u geheue te verfris en u begrip te bevorder:

 Skryf die definisies neer van


– voorouers
– handelingsbevoegdheid
– bevoegde getuie

8
PVL2602/501

– boedel
– eksekuteur
Onthou, bostaande lys is slegs enkele van die definisies en u sal weer en weer na ál die
definisies moet terugkeer soos wat u elke studie-eenheid bestudeer!

 Skryf ’n aantekening oor die reël dat ’n bevoordeelde lewend moet wees ten tye van
dies cedit.
In die volgende studie-eenheid bespreek ons intestate erfopvolging, met ander woorde, wat
gebeur as ’n persoon sterf sonder om ’n geldige testament na te laat.

9
STUDIE-EENHEID 2: INTESTATE ERFOPVOLGING
OORSIG
U het reeds gesien dat erfopvolging op drie maniere kan plaasvind. Die intestate erfreg bepaal
hoe opvolging in een van hierdie gevalle moet plaasvind, naamlik wanneer ’n persoon sonder ’n
geldige testament sterf. Die reg ten aansien van intestate erfopvolging word gereël deur die Wet
op Intestate Erfopvolging 81 van 1987, wat ons in hierdie Hoofstuk gaan bespreek. (As u
belangstel in die historiese agtergrond van die intestate erfreg in Suid-Afrika, sien Van der
Merwe & Rowland Die Suid-Afrikaanse Erfreg (1990) 22 ev.)
Die inhoud van Hoofstuk 2 van die handboek is uiters belangrik. U moet die reëls van
intestate erfopvolging vir die eksamen ken. In hierdie hoofstuk kry u diagramme van ’n
familiestamboom van ’n oorledene. Sodanige diagramme moet geteken word om vrae oor
intestate erfopvolging te kan beantwoord, maar ons verwag nie dat u dit in die werkopdragte of
eksamen moet doen nie. Dit is egter feitlik onmoontlik om ’n vraag oor intestate erfopvolging te
beantwoord sonder om so ’n diagram te teken en dit is dus ook vir u goeie oefening om ’n
diagram van die familie te teken voordat u probeer om die vraag te beantwoord.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) te onderskei tussen testate en intestate erfopvolging

(2) die intestate erfreg te kan definieer

(3) te kan verduidelik wanneer oorgang van ’n intestate erflating plaasvind

(4) verskillende persone se bevoegdheid om intestaat te erf, te kan verduidelik

(5) enkele konstitusionele aanvegtings ten aansien van die reëls van intestate erfreg te kan
bespreek

(6) probleem-tipe vrae oor die reg ten aansien van intestate erfopvolging tekan beantwoord

STUDIEMATERIAAL

HOOFSTUK 2: INTESTATE ERFOPVOLGING


Bestudeer die volgende uit J&R:
U moet die hele Hoofstuk bestudeer, te wete:

 Par 2.1–2.9 (pp23 –44)

 Par 2.6.2: Let ook op die bespreking van Hassam v Jacobs NO 2009 (5) SA 572
(KH) hieronder.

10
PVL2602/501

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID

1 Par 2.1 INLEIDING


Hierdie paragraaf gee ‘n definisie van intestate erfreg en verduidelik watter twee wette op
die intestate erfreg in Suid-Afrika van toepassing is.
2 Par 2.2 BASIESE KONSEPTE
In hierdie paragraaf verduidelik ons sekere uitdrukkings wat u moet ken ten aansien van
intestate erfopvolging. Ons bespreek ook verskillende verwante in ’n familie en representasie
(plaasvervulling). Hierdie terminologie is baie belangrik.
3 Par 2.3 WANNEER STERF IEMAND INTESTAAT?
In die Suid-Afrikaanse reg is dít moontlik dat ’n oorledene soos volg kan sterf:
(a) ten volle intestaat
(b) ten volle testaat
(c) deels testaat en deels intestaat
In hierdie paragraaf verduidelik ons wat dít beteken en wanneer intestate erfreg van toepassing
is.
4 Par 2.4 VESTIGING VAN ’N INTESTATE ERFENIS
HOFSAAK: Bestudeer
Harris v Assumed Administrator Estate MacGregor 1987 (3) SA 563 (A)
Hierdie paragraaf handel oor die vestiging van ’n reg wanneer intestate erfreg van toepassing
is. Wanneer ’n reg in ’n persoon vestig, word daardie persoon die houer van die reg. Dit word in
Hoofstuk 9 in meer besonderhede verduidelik. ’n Probleem ontstaan ten aansien van die
vestiging van ’n reg as ’n persoon deels intestaat sterf – hierdie situasie is bespreek in Harris v
Assumed Administrator Estate MacGregor 1987 (3) SA 563 (A). Sien die “Dink Na” blok in par
2.4 en bestudeer hierdie hofsaak in u Vonnisbundel.
5 Par 2.5 BEVOEGDHEID OM INTESTAAT TE ERF
Wanneer iemand ’n testament maak, kan hy of sy self besluit wie die boedel moet erf. As daar
geen testament gemaak word nie, besluit die reg wie moet erf. Histories gesproke, is sekere
mense verhoed om intestaat te erf van sekere familielede, byvoorbeeld ’n buite-egtelike kind
mag net van sy of haar moeder en haar verwante geërf het. Hierdie reëls het egter verander. In
hierdie paragraaf word verduidelik wie kwalifiseer om te erf ingevolge die huidige reëls van
intestate erfopvolging.
6 Par 2.6 GRONDWETLIKE UITDAGINGS
HOFSAKE: Bestudeer
Bhe v Magistrate, Khayelitsha (Commission For Gender Equality as Amicus Curiae); Shibi v
Sithole; South African Human Rights Commission v President of the Republic of South Africa
2005 (1) SA 580 (KH) (soos bespreek in J&R)

11
Daniels v Campbell 2004 (5) SA 331 (KH) (soos bespreek in J&R)
Hassam v Jacobs 2009 (5) SA 572 (KH) (sien hieronder)
Die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 is verskeie keer reeds in die Konstitusionele Hof
aangeveg. Bestudeer al die hofsake wat in J&R bespreek word en voeg die volgende
saakbespreking by:
Hassam v Jacobs NO 2009 (5) SA 572 (KH)
Hierdie hofsaak word ook in die handboek bespreek op p140 maar u moet reeds hier in die
konteks van intestate erfreg daarvan kennis neem. Hier volg meer besonderhede oor hierdie
saak.
In hierdie saak het die Konstitusionele Hof beslis dat ’n vrou wat deel was van ’n poligene
Moslem-huwelik wat ingevolge die Moslem-reg gesluit is, ’n gade is vir doeleindes van
vererwing of om te kan onderhoud eis van die boedel van die oorlede gade wat gesterf het
sonder om ’n testament na te laat.
Die applikant, mev Fatima Gabie Hassam, was ’n party tot ’n poligene Mos- lem-huwelik. Haar
man (die oorledene) het intestaat gesterf. Die eksekuteur van haar man se boedel het haar eise
om onderhoud en ’n intestate erflating geweier op die grond dat poligene Moslem-huwelike nie
deur die reg erken word nie. Sy het haar tot die Hoë Hof gewend en die geldigheid van sekere
bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 en die Wet op Onderhoud van
Langslewende Gades 27 van 1990 betwis. Sy het geargu- menteer dat daardie bepalings
weduwees van poligene Moslem-huwelike op onbillike wyse uitsluit van beskerming soos
bepaal in daardie wette, deur hulle uit te sluit van die konsepte “gade” en “langslewende”.
Die Hoë Hof het verklaar dat artikel 1(4)(f) van die Wet op Intestate Erfopvolging onbestaanbaar
is met die Grondwet in die sin dat dit slegs voorsiening maak vir een gade in ’n Moslem-huwelik
om ’n erfgenaam te wees. Hierdie ongeldigheidsverklaring is na die Konstitusionele Hof verwys
vir bevestiging kragtens die Grondwet.
In die bevestigingsverrigtinge voor die Konstitusionele Hof, het die applikant aangevoer dat die
uitsluiting van weduwees in poligene Moslem-huwelike van die voordele waarvoor in die Wet
voorsiening gemaak word, hulle grondwetlike reg op gelykheid, godsdiens en kultuur skend.
Die Konstitusionele Hof het die ongeldigheidsverklaring van die Hoë Hof bevestig. Wat die Wet
op Onderhoud van Langslewende Gades betref, het die Hof bevind dat die oogmerk van die
Wet, naamlik om weduwees se afhank- likheid van die liefdadigheid van hulle familie te
verminder, in die wiele gery sal word as daar aangehou word om weduwees in poligene
Moslem-huwelike uit te sluit van die voordele wat die reg verleen. Die Hof het voorts bevind dat
die Wet die applikant se reg op gelykheid skend. Uitsluiting van vroue in die posisie van die
applikant van die beskerming van die Wet diskrimi- neer op onbillike wyse teen hulle op grond
van godsdiens, huwelikstatus en geslag. Hierdie uitsluiting is nie regverdigbaar in ’n
gemeenskap wat gerig word deur die beginsels van gelykheid, regverdigheid, billikheid, sosiale
vooruitgang, geregtigheid, menswaardigheid en vryheid nie. Ten slotte het die Hof beslis dat die
woord “gade” in die Wet nie redelikerwys verstaan kan word as sou dit meer as een gade in die
konteks van ’n poligene huwe- lik insluit nie. Om hierdie defek te remedieer, moet die woorde
“of gades” ingelees word na elke gebruik van die woord “gade” in die Wet.

12
PVL2602/501

Wat die toepassing betref van artikel 1(1)(c)(i) en 1(4)(f) van die Wet op Intestate Erfopvolging
81 van 1987 op die boedel van ’n oorledene wat deur meer as een gade oorleef word, het die
Hof bevind:
(a) ’n Kindsdeel van die oorledene se boedel sal bereken word deur die geldwaarde van die
boedel te verdeel deur ’n getal wat gelyk is aan die aantal kinders van die oorledene wat
hom óf oorleef het óf voor hom oorlede is maar deur afstammelinge oorleef word, plus die
aantal gades wat die oorledene oorleef het;
(b) Onderhewig aan paragraaf (c), sal elke oorlewende gade ’n kindsdeel van die boedel erf,
of soveel as wat nie die bedrag wat die Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling
van tyd tot tyd mag vasstel sal oorskry nie, welke bedrag ookal die grootste is; en
(c) Indien die bates in die boedel nie voldoende is om aan elke gade die bedrag wat deur die
Minister vasgestel is te gee nie, moet die boedel gelykop tussen die oorlewende gades
verdeel word.
(d) Die verklaring van ongeldigheid geld terugwerkend vanaf 27 April 1994 maar dit affekteer
nie enige oordrag van eiendomsreg wat voor die datum van hierdie bevel plaasgevind het
ten opsigte van die verdeling van die restant eiendom van ’n boedel nie, tensy dit
vasgestel kan word dat toe die oordrag gedoen is, die oordraggewer geweet het dat die
betrokke eiendom onderhewig was aan ‘n soortgelyke eis as die een wat die applikant in
die huidige aansoek gebring het.
7 Par 2.7 TOEPASLIKE INTESTATE ERFREGREËLS
Hierdie paragraaf verduidelik die gevolge van die onlangse ontwikkelinge in sowel die
gemeenregtelike as die gewoonteregtelike erfreg vir die toekomstige aanwending van intestate
erfopvolgingsreëls.
Let egter op die volgende:
WYSIGING VAN ARTIKEL 1(1)(c) VAN DIE WET OP INTESTATE ERFOPVOLGING 81 van
1987
Artikel 1(1)(c) van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 bepaal dat indien ‘n person
intestaat sterf en oorleef word deur ‘n gade en ‘n desendent, erf die gade óf ‘n kindsdeel van
die intestate boedel óf soveel van die intestate boedel as wat die bedrag wat die Minister van
Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal nie te bowe
gaan nie, watter bedrag ookal die meeste is, en die desendent sal enige restant van die boedel
erf. Tot November 2014 was die bedrag wat deur die Minister vasgestel is, R125 000. Hierdie
bedrag is in November 2014 tot R250 000 verhoog ingevolge Staatskoerant 38238. Ons sal na
hierdie bedrag as die statutêre bedrag verwys.
Dit beteken dat indien ‘n person intestaat sterf en oorleef word deur ‘n gade en ‘n desendent,
sal die gade óf ‘n kindsdeel óf die statutêre bedrag (R250 000) erf en die desendente sal die
restant erf. Om ’n kindsdeel te bereken word die geldwaarde van die boedel verdeel deur die
getal kinders van die oorledene wat óf hom/haar oorleef het óf voor hom/haar oorlede is maar
deur afstammelinge oorleef word, plus die getal gades (sien artikel 1(4)(f)).
Die wysiging het tot gevolg dat u die voorbeelde in u handboek (vanaf p36 – p38) moet
vervang. Sien hieronder onder Par 2.8.

13
8 Par 2.8 VOLGORDE VAN ERFOPVOLGING KRAGTENS DIE WET OP INTESTATE
ERFOPVOLGING GELEES MET DIE RCLSA
In hierdie paragraaf word die reëls verduidelik vir die volgorde waarin intestate erfopvolging
plaasvind. Hierdie reëls is baie belangrik en moet deeglik bestudeer word.
As u ’n probleem ten aansien van intestate erfopvolging moet oplos, moet u die verdeling van ’n
boedel kan uiteensit. Soos bo gemeld, het die bedrag waarop die oorlewende gade geregtig is
en wat deur die Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling by kennisgewing in die
Staatskoerant bepaal word, verander. U moet dus die bedrag verander na R250 000 waar u
ookal die bedrag R125 000 sien en u moet die voorbeelde in die handboek aanpas (sien onder).
Op p35 onder Scenarion 1
Vervang die bedrag R125 000 met R250 000.
Op p36 vervang Voorbeeld 1 en 2 met:
In Figuur 2.6 Sterf Anthony intestaat. Hy word oorleef deur sy vrou, Patience, sy seun, Marco,
en sy digter, Cleo. Hy word ook oorleef deur sy twee kleindogters, Emma en Clair (die dogters
van sy vooroorlede seun, Thabo.)
Die diagram van Figuur 2.6 is korrek en kan net so gebruik word.
Voorbeeld 1: Binne gemeenskap van goed
Anthony en Patience was binne gemeenskap van goed getroud en die gesamentlike boedel
beloop R600 000.
Sy boedel sal soos volg verdeel word:

 Patience ontvang haar halwe aandeel (R300 000) van die gesamentlike boedel
ingevolge die huweliksgoederereëls.

 Anthony se intestate boedel is R300 000 werd end it moet soos volg onder Patience
en die kinders verdeel word:

 Die kindsdeel is R300 000 ÷ 4 (nl getal oorlewende kinders of vooroorlede kinders
wat deur afstammelinge oorleef word plus die getal oorlewende gades) = R75 000.
Patience sal dus R250 000 erf aangesien dit groter is as ‘n kindsdeel.

 Hierdie R250 000 moet afgetrek word van die beskikbare bedrag in die intestate
boedel (R300 000 – R250 000) en die oorblywende R50 000 sal in gelyke dele toeval
aan Thabo, Marco en Cleo (elkeen erf R16 666.66). Aangesien Thabo egter vooroorlede
is, sal sy deel gelykop geërf word deur sy twee kinders, Emma en Claire, by wyse van
representasie (elkeen erf R 8 333.33).
Voorbeeld 2: Buite gemeenskap van goed met aanwas verskuldig aan die oorlewende
gade

Anthony en Patience was buite gemeenskap van goed met insluiting van die aanwasbedeling
getroud en die waarde van Anthony se boedel bedra R450 000. Patience is geregtig op ‚n
aanwas van R50 000. Die aanwasbedrag van R50 000 aan Patience verskuldig ingevolge die

14
PVL2602/501

huweliksgoederebedeling moet van Anthony se boedel afgetrek word voordat dit verdeel word.
Die restant van Anthony se intestate boedel (R400 000) moet soos volg verdeel word:
 Die kindsdeel sal R400 000 ÷ 4 = R100 000 wees en Patience sal dus R250 000 erf
aangesien dit groter is as ’n kindsdeel.
 Die oorblywende R150 000 (R400 000 – R 250 000) sal gelykop verdeel word tussen
Thabo, Marco en Cleo (elkeen erf R50 000). Aangesien Thabo egter vooroorlede is, sal
sy deel gelykop geërf word deur sy twee kinders, Emma en Claire, by wyse van
representasie (elkeen erf R25 000).

Op p37 vervang Voorbeeld 3 en 4 met die volgende:

Voorbeeld 3: Buite gemeenskap van goed met aanwas verskuldig aan die oorledene
se boedel

Anthony en Patience was buite gemeenskap van goed met insluiting van die
aanwasbedeling getroud. Anthony se boedel is R1 350 000 werd, maar sy boedel het ’n
aanspraak van R150 000, synde aanwas van Patience.

Hou in gedagte dat die gade ’n kindsdeel of R250 000 (welke van die twee die grootste is)
erf en dat die resattnt tussen die afstammelinge verdeel word. In hierdie geval het die
bestorwe boedel ook ’n aanspraak op die aanwas en derhalwe moet die aanwas eers
bygevoeg word by die boedel voordat dit verdeel kan word. In hierdie voorbeeld bedra
Anthony se boedel R1 500 000 (R1 350 000 plus R150 000 waarop die bestorwe boedel
geregtig is ingevolge die aanwasbedeling). Anthony se boedel sal soos volg verdeel word:

 Patience sal die kindsdeel erf (R375 000) omdat dit groter is as die bedrag van
R250 000.
 Die oorblywende R1 125 000 (R1 500 000 – R375 000) sal gelykop verdeel word
tussen Thabo, Marco en Cleo (elkeen erf R375 000). Aangesien Thabo egter
vooroorlede is, sal sy deel gelykop geërf word deur sy twee kinders, Emma en Claire, by
wyse van representasie (elkeen erf R187 500).

Voorbeeld 4: Buite gemeenskap van goed met geen aanwas

Anthony en Patience was buite gemeenskap van goed getroud sonder die aanwasbedeling en
Anthony se boedel is R1 200 000 werd. Anthony se boedel sal soos volg verdeel word:

 Patience sal ’n kindsdeel ter waarde van R300 000 erf omdat dit groter is as die
bedrag van R250 000.
 Die oorblywende R900 000 sal gelykop verdeel word tussen Thabo, Marco en Cleo
(elkeen erf R300 000). Aangesien Thabo egter vooroorlede is, sal sy deel gelykop geërf
word deur sy twee kinders, Emma en Claire, by wyse van representasie (elkeen erf
R150 000).

Scenario 2: Waar dei oorledene deur meer as een gade oorleef word

Waar die oorledene deur meer as een gade oorleef word, erf elke oorlewende gade ’n
kindsdeel, of ’n bedrag wat van tyd tot tyd deur die Minister van Justisie en Grondwetlike
Ontwikkeling bepaal word (die bedrag is tans R250 000), watter ookal die grootste is. Die
afstammelinge sal die restant (indien enige) van die intestate boedel erf. Waar die oorledene se
boedel nie genoegsaam is om aan elke gade die bedrag wat deur die Minister vasgestel is, te
15
laat toekom nie, word die boedel gelykop tussen die langslewende gades verdeel en erf die
afstammelinge niks nie.

Voorbeeld van geval waar ’n oorledene deur meer as een gade en afstammelinge oorleef
word

In Figuur 2.7 (op p38) was Thabo (die oorledene) kragtens die Wet op Erkenning van
Gebruiklike Huwelike in chronologiese volgorde met Emily, Anna en Sophie getroud. Hy word
deur sy vrouens en vier kinders oorleef.

Op p38 vervang die teks met die volgende:

 Indien Thabo se intestate boedel R75 000 bedra, sal Emily, Anna en Sophie elk
R25 000 van die boedel erf en die kinders sal niks erf nie.
 Indien Thabo se intestate boedel R1 000 000 bedra, sal Emily, Anna en Sophie elk
R250 000 van die boedel erf en die restant van R250 000 sal gelykop tussen die kinders
verdeel word (Andries, Ben, Charles en Dina) en elkeen sal R62 500 erf.
 Indien Thabo se intestate boedel R2 100 000 beddra, sal Emily, Anna en Sophie elk
’n kindsdeel van R300 000 erf aangesien dit meer is as R250 000. Die oorblywende
R1 200 000 sal gelykop tussen Andries, Ben, Charles en Dina (die kinders) verdeel word
en elkeen sal dus R300 000 erf.

In die eksamen:
Daar sal dus in die eksamen van u verwag word om te kan bereken hoe ‘n intestate boedel
verdeel moet word. Hieronder volg ’n voorbeeld. Bestudeer die metode wat toegepas word om
die verdeling te doen en pas dit altyd toe as u vrae oor intestate erfopvolging moet beantwoord.
Xavier sterf intestaat en laat die volgende verwante agter: Sy vrou Wendy, met wie hy binne
gemeenskap van goed getroud was, sy seun Sam, sy moeder Mary, en sy broer Ben. Die totale
waarde van die gesamentlike boedel is R800 000.
Hier moet die gesamentlike boedel van R800 000 deur 2 gedeel word (R800 000 ÷ 2 =
R400 000) omdat die gades binne gemeenskap van goed getroud was.
Wendy is dus geregtig op haar helfte van die gemeenskaplike boedel. Xavier se boedel beloop
dus R400 000.
Die volgende stap is om ’n kindsdeel te bereken om te bepaal wat Wendy van Xavier se boedel
sal erf aangesien sy óf ’n kindsdeel óf R250 000 erf, watter bedrag ook al die grootste is.
(Onthou dat die konsep “kindsdeel” deur die wetgewer geskep is en dit beteken nie dat dit die
bedrag is wat ’n kind in werklikheid sal erf nie.) Kragtens die Wet is ’n kindsdeel gelyk aan die
waarde van die boedel gedeel deur die aantal kinders wat die oorledene óf oorleef het óf voor
hom of haar oorlede, is maar deur hul afstammelinge oorleef word, plus die aantal gades. In
hierdie voorbeeld is daar een kind plus die vrou. Dus R400 000 ÷ 2 = R200 000. ’n Kindsdeel is
dus R200 000.
Soos ons gesê het, die gade erf ’n kindsdeel of R250 000, watter bedrag ook al die grootste is.
Wendy erf dus R250 000 aangesien dit meer is as die kindsdeel. (Let daarop dat ’n kindsdeel in
elke geval bereken moet word as daar ’n gade en kinders is. Die kindsdeel is nie ’n vaste

16
PVL2602/501

bedrag nie. Soms dink studente dat ’n kindsdeel gelyk is aan R250 000. Dit is nie die geval nie.
R250 000 is die bedrag huidiglik deur die Minister vasgestel.)
Die afstammeling Sam erf die res van die boedel, naamlik R150 000.
Mary en Ben erf niks omdat Mary ’n assendent (voorouer) is en Ben is in die sylinie verwant.
Hulle word uitgesluit deur die afstammeling, Sam.
9 Par 2.9 ONBEVOEGDHEID EN AFSTANDDOENING
In hierdie paragraaf verduidelik ons wat gebeur as ’n intestate erfgenaam onbevoeg is om te erf
of afstand doen van sy of haar erflating. Let daarop dat artikel 1(6) en 1(7) van die Wet op
Intestate Erfopvolging ooreenstem met artikel 2C(1) en (2) van die Wet op Testamente – sien
die bespreking in Hoofstuk 10.
Op p43 vervang die teks onder figuur 2.14 met die volgende:
Die totale waarde van John se boedel is R1 200 000. John se boedel sal soos volg vererf:

 William is geregtig op aanwas van R100 000 ingevolge die huweliksgoederereg.


Die R100 000 word van John se boedel afgetrek: R1 200 00 – R100 000 =
R1 100 000. Dit beteken dat die totale waarde van John se boedel wat ingevolge die
intestate erfopvolgingsreëls verdeel moet word, R1 100 000 is.
 William is geregtig om ’n kindsdeel of R250 000, watter ook al die grootste is, te
erf. ’n Kindsdeel = R1 100 000 ÷ 4 (Samuel, Dina, Gerald + 1) = R275 000, wat
groter is as die bedrag van R250 000 en derhalwe erf William R275 000.
 Die restant van R825 000 (R1 100 000 – R275 000) moet gelykop tussen die
kinders, Samuel, Dina en Gerald, verdeel word (R275 000 elk), maar omdat Gerald
eerste gesterf het, sal sy aandeel van R275 000 by wyse van representasie aan
Frans, die kleinkind van William, toeval.
 Dina repudieer die erflating en dus moet haar aandeel van R275 000 aan William
gaan ingevolge artikel 1(6) van die Wet op Intestate Erfopvolging wat bepaal dat
indien ’n erfgenaam ’n erfenis repudieer, sy of haar aandeel op die langslewende
gade oorgaan.
 Mary, John se moeder, en Ben, John se broer, erf niks nie omdat Mary ’n voorouer
en Ben ’n syverwant is; daar bestaan nadere erfgename wat hulle uitsluit.

10 Par 2.10 GEWOONTEREGTELIKE ERFREG


Die paragraaf verduidelik dat die gewoontereglike erfreg tot ‘n groot mate deur die Bhe-saak en
die RCLSA afgeskaf is, maar dat ‘n erflater in sy of haar testament kan aandui dat sy of haar
boedel ingevolge gewoonteregtelike erfreg moet vererf.

AKTIWITEIT
Daar is baie voorbeelde van probleme ten aansien van intestate erfopvolging. Ons gee hier net
een voorbeeld en verduidelik hoe u dit moet oplos.
Xavier en Wanda was binne gemeenskap van goed getroud. Xavier sterf intestaat en laat
Wanda en twee kinders, Nina en Ben, na. Xavier laat ook twee kleinkinders, Donna en Emma,
die kinders van Charles, na. Charles is Xavier se vooroorlede seun. Die gesamentlike boedel
beloop R1 600 000.

17
Wat u moet doen: Begin deur ’n diagram te teken volgens die feite. Bereken hoe Xavier se
boedel verdeel gaan word en dui aan hoeveel elke persoon sal ontvang. Gee redes vir u
berekenings. (Let daarop dat u ’n nie-programmeerbare sakrekenaar in die eksamen mag
gebruik.)
Enkele riglyne voordat u begin skryf: U moet die reëls van intestate erfopvolging baie goed
bestudeer om ’n probleem oor intestate erfopvolging te kan oplos. As u hierdie reëls nie ken nie,
sal u nie die vraag kan beantwoord nie!
In die eksamen moet u die oplossing aanbied soos hieronder. (U kan die name van die
betrokkenes net met ’n voorletter aandui as u dit verkies.) Begin deur ’n diagram te teken
volgens die feite. Verduidelik dan verder soos volg:

a) In gevolge die huweliksgoederereg is W geregtig op die helfte van die boedel by die
beëindiging van die huwelik deur X se dood, want W en X was binne gemeenskap van
goed getroud. (Met ander woorde, X en W het een gesamentlike boedel van R1.6 miljoen
gehad wat tussen hulle verdeel moet word by die dood van een van die partye of indien
hulle sou skei.) W kry eerstens haar deel van R800 000 omdat dit, tegnies gesproke,
aan haar behoort.
b) X se intestate boedel beloop dus R800 000.
c) Daarna moet W van X se intestate boedel erf: óf R250 000 (die statutêre bedrag) óf ‘n
kindsdeel, welke bedrag ookal die meeste is.
d) ’n Kindsdeel word bereken deur die waarde van die intestate boedel te verdeel deur die
getal kinders van die oorledene wat hom/haar oorleef het (in die geval N en B) of wat
voor hom/haar oorlede is maar deur kinders oorleef word (in hierdie geval C), plus die
getal gades (in hierdie geval net W) (sien artikel 1(4)(f) van die Wet).
e) X se intestate boedel sal gevolglik deur vier verdeel word (W, N, B en C).
f) ’n Kindsdeel sal dus R200 000 wees (R800 000 ÷ 4 = R200 000). W sal R250 000 erf,
want dit is meer as ’n kindsdeel.
g) Die oorblywende R550 000 (R800 000 – R250 000 = R550 000) sal gelykop deur N, B en
C (deur sy kinders gerepresenteer) geërf word.
h) N, B en C (verteenwoordig deur D en E) sal elkeen 1/3 van R550 000 erf = R183 333.
i) N en B sal elkeen R183 333 erf en C se kinders, D en E, sal R183 333 deel sodat elkeen
R91 666 sal erf.

SAMEVATTING
In hierdie Hoofstuk het ons ’n aantal algemene konsepte bespreek wat van toepassing is op die
reg van intestate erfopvolging. Ons het ook die reëls van intestate erfopvolging bespreek wat
geld wanneer ’n persoon sterf sonder ’n geldige testament.
Doen die volgende om u geheue te verfris en u begrip te bevorder:

 Skryf enkele aantekeninge oor:


– voorouers
– afstammelinge
– stirps

18
PVL2602/501

– vestiging van ’n intestate erflating


– Bhe v Magistrate, Khayelitsha (Commission For Gender Equality as Amicus Curiae); Shibi v
Sithole; South African Human Rights Commission v President Of the•Republic of South
Africa 2005 (1) SA 580 (KH)

– Daniels v Campbell 2004 (5) SA 331 (KH)


– Hassam v Jacobs 2009 (5) SA 572 (KH)
– die volgorde van erfopvolging
In die volgende studie-eenheid gaan ons begin met ’n bespreking van die testate erfreg en in
die besonder die algemene reëls ten aansien van die opstel van ’n testament.

19
STUDIE-EENHEID 3: TESTATE ERFOPVOLGING – ALGEMENE REËLS

OORSIG
In die vorige Hoofstuk het ons die reg ten aansien van intestate erfopvolging bespreek. Ons
gaan nou die testate erfreg bespreek.
Testate erfopvolging (of testamentêre erfopvolging) vind plaas wanneer erfopvolging gereël
word deur ’n geldige testament waarin die oorledene bepaal het hoe erfopvolging ten aansien
van sy of haar eiendom moet plaasvind.Daar is ’n aantal algemene reëls wat geld by testate
erfopvolging en wat van groot belang is vir die verdere studie oor testamente. Hierdie reëls
vorm die fokuspunt van hierdie studie-eenheid.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) die konsepte “testament”, “kodisil” en “testamentêre geskrif” te definieer
(2) die verskil tussen gesamentlike en wederkerige testamente te verduidelik
(3) te onderskei tussen adiasie en afstanddoening (repudiasie)
(4) te verduidelik wanneer en hoe die leerstuk van eleksie van toepassing is

STUDIEMATERIAAL

HOOFSTUK 3: TESTATE ERFOPVOLGING – ALGEMENE REËLS


Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 3.1 (p45)

 Par 3.2 (pp46–53)


Op p 46-47 kry u vier omskrywings van ’n testament. U hoef nommer 1, 2 en 3 net deur te lees,
maar leer omskrywing 4.

 P47 – Bestudeer “Omskrywing 4”

 Par 3.3–3.5 (pp53–57)

 Par 3.6 (p57)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 3.1 INLEIDING, Par 3.2 TESTAMENTE, KODISILLE EN TESTAMENTÊRE
GESKRIFTE, Par 3.3 GESAMENTLIKE EN WEDERKERIGE TESTAMENTE
HOFSAKE: Bestudeer
Spies v Smith 1957 (1) SA 539 (A)

20
PVL2602/501

Kirsten v Bailey 1976 (4) SA 108 (K)


In hierdie paragrawe verduidelik ons wat ’n testament is en ons gee verskeie moontlike
omskrywings of definisies. Lees al die definisies maar maak seker dat u nommer 4 op bladsy 47
ken. Die verskil tussen gesamentlike en wederkerige testamente word ook verduidelik.
Let daarop dat ’n testateur die bedoeling moet hê om ’n testament op te stel voordat so ’n
testament geldig is. Voorts moet hy of sy hierdie bedoeling vrywillig uitoefen, sonder
beïnvloeding of dwang van iemand anders (sien Spies v Smith 1957 (1) SA 539 (A) en Kirsten v
Bailey 1976 (4) SA 108 (K) in hierdie verband). Daar is sekere basiese voorvereistes waaraan
voldoen moet word voordat ’n testament kan bestaan. Hierdie voorvereistes moet in oorweging
geneem word as mens met ’n testament te make het wat op die oog af (prima facie) formeel
geldig voorkom. Sien Hoofstuk 5 oor die formaliteite wat vereis word vir ’n testament om formeel
geldig te wees.
2 Par 3.4 ADIASIE EN REPUDIASIE (AFSTANDDOENING)
Geen bevoordeelde is verplig om enige voordeel ingevolge ’n testament te aanvaar nie. Hy of
sy kan die voordeel aanvaar (adieer) of weier (daarvan afstand doen of repudieer). Maak seker
dat u die reëls ten aansien van adiasie en afstanddoening ken en bestudeer die “Voorbeeld van
vererwing van ‘n gerepudieerde voordeel” op p55-56 (net onder Tabel 3.3). Bestudeer weer
Studie-eenheid 2 oor intestate erfopvolging in hierdie verband.
3 Par 3.5 DIE LEERSTUK VAN ELEKSIE
Let daarop dat die leerstuk van eleksie alleen van toepassing is as ’n las of verpligting op ’n
begunstigde geplaas word. Dit geld nie in die gewone geval waar ’n begunstigde bloot moet
besluit of hy of sy ’n voordeel gaan adieer of repudieer nie.
4 Par 3.6 DIE GEWOONTEREGTELIKE ERFREG
Let daarop dat enige persoon ’n testament mag maak en dat iemand wat aan die
gewoonteregtelike erfreg onderhewig is, dit ook mag doen. So ’n testament is dan onderhewig
aan die reëls van erfopvolging en die Wet op Testamente, net soos in die geval van enige ander
testament.

AKTIWITEIT
Terwyl hy op ’n sakereis is ontmoet Tsepo vir Yandi en het ’n verhouding met haar. Sy dreig dat
sy sy vrou sal vertel tensy hy ’n testament maak waarin hy sy hele boedel aan haar nalaat. Om
te verhoed dat sy vrou van die verhouding uitvind, besluit hy om ’n nuwe testament op te stel
waarin hy sy hele boedel aan Yandi bemaak.
Wat u moet doen: Bespreek die geldigheid van die testament in die lig van die animus
testandi-vereiste.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Bestudeer animus testandi en wilsvryheid, en onthou
dat die testament onder dwang opgestel is. Die testateur het dus nie die vereiste animus
testandi gehad nie. Daar kan ook aangevoer word dat, selfs al het hy die animus gehad om ’n
testament op te stel, hy nie sy wil vrylik uitgedruk het nie en dat die testament dus ook op
hierdie grond ongeldig is. Bespreek ook Spies v Smith 1957 (1) SA 539 (A) en Kirsten v Bailey
1976 (4) SA 108 (K).

21
SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons geleer wat testate erfopvolging is en het ons die algemene
reëls ten aansien van testate erfopvolging bestudeer.
Doen die volgende om u geheue te verfris en u begrip te bevorder:

 Skryf aantekeninge oor


–– adiasie
–– afstanddoening
–– animus testandi
––wilsvryheid
Hierdie studie-eenheid vorm die basis van ons verdere studie van testamente.
Ons gaan vervolgens kyk na ’n persoon se bevoegdheid om ’n testament te maak.

22
PVL2602/501

STUDIE-EENHEID 4: TESTEERBEVOEGDHEID
OORSIG
In die vorige Hoofstuk het ons enkele algemene testate erfregbeginsels of -reëls bespreek. Nou
dat u ’n idee het van hierdie beginsels, gaan ons die besondere reëls wat testamente reël
bespreek en ons begin deur te kyk na wie ’n testament mag maak. In regsterminologie staan dit
bekend as die bevoegdheid wat iemand het om ’n testament te maak, of testeerbevoegdheid.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) te onderskei tussen kontraktuele of handelingsbevoegdheid en testeerbevoegdheid
(2) testeerbevoegdheid kragtens die Wet op Testamente te kan omskryf
(3) te kan onderskei tussen testeerbevoegdheid, testeervryheid, wilsvryheid en animus
testandi
(4) te kan bepaal of ’n testateur testeerbevoegdheid gehad het toe hy of sy ’n testament verly
het

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 4: TESTEERBEVOEGDHEID
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 4.1–4.2 (pp59–64, tot net voor par 4.3).


–– Ignoreer par 4.3 (p64-65) MAAR
–– Let daarop dat ingevolge die RCLSA enige persoon ’n testament mag maak, maar so ’n
testament moet voldoen aan die vereistes van die Wet op Testamente en die gemeenregtelike
reëls.

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 4.1 INLEIDING
Lees die inleidende paragraaf aandagtig deur.
2 Par 4.2 TESTEERBEVOEGDHEID
HOFSAKE: Bestudeer
Spies v Smith 1957 (1) SA 539 (A)
Kirsten v Bailey 1976 (4) SA 108
Let op die verskillende voorgeskrewe ouderdomme vir die verskillende bevoegdhede wat
regtens toegestaan word:
Testeerbevoegdheid: 16 jaar
23
Kontraktuele bevoegdheid: 18 jaar
Bevoegdheid om ’n getuie tot ’n testament te wees: 14 jaar (U sal in Hoofstuk 5 ingelig word oor
’n getuie se bevoegdheid om ’n testament te onderteken maar let reeds hier op die
voorgeskrewe ouderdom.)
In par 4.2.3 word die verstandelike vermoëns beskryf wat deel uitmaak van ’n testateur se
testeerbevoegdheid. U het reeds twee hofsake in hierdie verband in Hoofstuk 3 bestudeer
(Spies v Smith 1957 (1) SA 539 (A) en Kirsten v Bailey 1976 (4) SA 108 (K)). Lees hierdie sake
weer en sien ook die bespreking van Katz v Katz [2004] All SA (4) 545 (K) op p62 en Smith v
Strydom 1953 (2) SA 799 (T) op p63.

AKTIWITEIT
Op vakansie ontmoet Tsepo vir Yvonne en hulle het ’n vakansieromanse. Hy doen malaria op
en beland in die hospitaal waar hy drie weke lank in ’n beswyming lê. Yvonne besoek hom elke
dag en na sy dood blyk dit dat hy tydens hierdie drie weke ’n testament gemaak het waarin hy
sy totale boedel aan haar bemaak het.
Wat u moet doen: U moet vasstel of Tsepo die nodige testeerbevoegdheid gehad het om ’n
geldige testament te verkry.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Hierdie testament kan op twee gronde ongeldig wees.
Eerstens kon Tsepo verstandelik onbekwaam gewees het om die aard van sy handelinge te
verstaan omdat hy ylend was weens koors of weens die medikasie wat hy in die hospitaal gekry
het. Hy het dus nie die nodige testeerbevoegdheid gehad nie. Tweedens, selfs al het hy
testeerbevoegdheid gehad, is dit moontlik dat Yvonne hom sodanig beïnvloed het dat die
testament nie meer sy eie vry wilsbesluite bevat het nie en derhalwe ongeldig is. Sien
testeerbevoegdheid, Spies v Smith 1957 (1) SA 539 (A) en Kirsten v Bailey 1976 (4) SA 108 (K)
soos bespreek in Hoofstuk 3 en 4.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons testeerbevoegdheid ondersoek en geleer dat verskillende
regshandelinge verskillende ouderdome vereis. Al is hierdie studie-eenheid kort, is dit van groot
belang aangesien een van die eerste vrae wat gevra word as daar met ’n testament gewerk
word, is of die testateur testeerbevoegdheid gehad het om daardie testament op te stel.
Doen die volgende om u geheue te verfris en u begrip te bevorder:

 Skryf die ouderdomme neer wat iemand moet bereik voordat hy of sy testeerbevoeg,
kontraktueelbevoeg en bevoeg is om ’n testament te onderteken as getuie.

 Skryf aantekeninge oor


–– testeerbevoegdheid
–– verstandelike vermoëns
–– animus testandi
–– wilsvryheid

24
PVL2602/501

 Bespreek
–– Spies v Smith 1957 (1) SA 539 (A)
–– Kirsten v Bailey 1976 (4) SA 108 (K)

In die volgende studie-eenheid gaan ons die formaliteite vereis vir geldige testamente bespreek.

25
STUDIE-EENHEID 5: TESTAMENTSFORMALITEITE
OORSIG
In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die bevoegdheid wat ’n persoon het om ’n testament te
maak, oftewel, na testeerbevoegdheid. Nadat vasgestel is dat ’n persoon wel die bevoegdheid
het om ’n testament te maak, word ’n testament vir hom of haar opgestel en voordat so ’n
testament geldig is, moet dit aan sekere vereistes voldoen wat in die Wet op Testamente
neergelê word.
Na die testateur se dood word die testament ingegee by die kantoor van die Meester, wat dan
bepaal of dit voldoen aan die voorgeskrewe formaliteite. As die Meester die testament verwerp
omdat dit nie formeel geldig is nie, het die testateur se begunstigdes die opsie om die hof te
nader vir ’n hofbevel ingevolge artikel 2(3) van die Wet op Testamente. So ’n hofbevel beveel
die Meester om die testament te aanvaar. Die formaliteite en artikel 2(3) gaan in hierdie studie-
eenheid bespreek word.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) te weet waar die partye betrokke by die verlyding van ’n testament hulle handtekeninge
moet aanbring
(2) te kan verduidelik waar die “end” van ’n testament is
(3) te kan verduidelik wat geld as ’n handtekening
(4) te weet wie ’n getuie tot ’n testament mag wees
(5) ’n kliënt te kan adviseer oor die formaliteite waaraan voldoen moet word wanneer ’n
testament van ’n ongeletterde persoon verly word
(6) ’n kliënt te kan adviseer oor die formaliteite waaraan voldoen moet word by die verlyding
van ’n testament as iemand anders die testament namens die kliënt onderteken
(7) die vereistes ten aansien van ’n sertifikaat deur ’n kommissaris van ede te kan verduidelik
(8) ’n kliënt te kan adviseer oor die formaliteite waaraan voldoen moet word wanneer ’n
wysiging aan ’n testament aangebring word
(9) ’n kliënt te kan adviseer oor die omstandighede waaronder ’n aansoek kragtens artikel 2(3)
gebring kan word
(10) om die hofbeslissings ten aansien van ’n artikel 2(3)-aansoek te kan bespreek

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 5: TESTAMENTSFORMALITEITE
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 5.1–5.4 (pp67–89)


–– Ignoreer par 5.5 (p89).
26
PVL2602/501

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 5.1–5.4 INLEIDING – ARTIKEL 2(3) VAN DIE WET OP TESTAMENTE
HOFSAKE: Bestudeer
1 Back v Master of the Supreme Court [1996] 2 All SA 161 (K)
2 Bekker v Naude 2003 (5) SA 173 (HHA) (sien J&R pp83-84)
3 Ex parte Williams: In re Williams Estate 2000 (4) SA 168 (T)
4 Kidwell v The Master 1983 (1) SA 509 (O)
5 Radley v Stopforth 1977 (2) SA 516 (A)
Die formaliteite vir verlyding van ’n geldige testament is uiters belangrik en baie gedetailleerd.
Onthou dat ’n testament deur die Meester verwerp kan word as ongeldig indien dit nie aan die
nodige formaliteite voldoen nie en dit kan meebring dat die testateur intestaat sterf. Dit kan weer
meebring dat die boedel vererf op ’n wyse wat totaal anders is as wat hy of sy bedoel het. Maak
seker dat u al die besonderhede ken oor wie ’n testament moet onderteken, waar hulle moet
teken, wanneer hulle moet teken, ensovoorts.
Let daarop dat ’n kommissaris van ede teenwoordig moet wees wanneer ’n testateur ’n merk
maak of wanneer iemand anders namens die testateur teken. Die kommissaris van ede hoef nie
teenwoordig te wees as die testateur self sy of haar handtekening aanbring nie. Maak ook seker
dat u die bykomende formaliteite ken waaraan voldoen moet word wanneer ’n testateur met ’n
merk teken, of wanneer ’n amanuensis namens die testateur teken.
Let ook daarop dat dieselfde formaliteite as by die verlyding van ’n testament nagekom moet
word wanneer ’n wysiging aan die testament aangebring word. Bestudeer die definisie van
“wysiging” en maak seker dat u kan onderskei tussen “wysiging” en “rektifikasie”. Rektifikasie
van ’n testament kan alleenlik deur ’n hof uitgevoer word indien die testament weens die een of
ander fout nie die testateur se bedoeling weerspieël nie (sien Hoofstuk 13), terwyl ’n wysiging
deur die testateur self aangebring word.

AKTIWITEIT
Oorlede Tom het in 2001 ’n testament verly wat sy prokureur vir hom voorberei het. In die
testament het Tom sy broerskind Peter en sy vriend Ben as sy erfgename aangewys. Toe Tom
die testament verly het, was hy besig om te herstel van ’n ernstige siekte en kon hy nie skryf of
self sy naam teken nie. Sy prokureur se sekretaresse het toe die testament namens en in
opdrag van Tom onderteken. Dit is gedoen in die teenwoordigheid van Tom se vriende, Anna
en Ben en hulle het die testament ook onderteken langs die sekretaresse se handtekening. Die
volgende dag het Tom se vrou die testament na ’n polisiestasie geneem waar ’n polisieman die
volgende woorde op die testament geskryf het: Ek sertifiseer hiermee dat dit Tom se testament
is. Die polisieman het sy eie naam onder hierdie stelling geteken en met ’n rubberstempel
geseël waarop geskryf was: P Chetty, Polisiekonstabel, Umbilo Polisiestasie, Durban.
Wat u moet doen: Stel vas of Tom se testament geldig verly is. Indien nie, verduidelik hoe dit
verly moes gewees het. Verduidelik of daar iets is wat Peter kan doen om ingevolge hierdie
dokument te kan erf.

27
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Die testament is nie geldig verly nie, aangesien die Wet
vereis dat ’n kommissaris van ede teenwoordig moet wees as die testateur teken deur ’n merk
te maak of wanneer iemand anders namens hom of haar teken. Die kommissaris (polisieman)
het ook nie sy amp as “kommissaris van ede” op die testament aangedui nie. Hier moet u
Radley v Stopforth 1977 (2) SA 516 (A) bespreek. Peter kan ’n aansoek rig ingevolge artikel
2(3) van die Wet op Testamente, wat die hof magtig om die Meester te beveel om ’n dokument
as geldige testament te aanvaar indien die hof oortuig is dat
(1) die testament opgestel of verly is deur ’n persoon
(2) wat intussen oorlede is,
(3) en wat bedoel het dat die dokument sy testament moet wees, al voldoen dit nie aan al die
formaliteite vir verlyding van testamente nie.
U moet al drie bogenoemde vereistes ook bespreek met verwysing na die volgende hofsake:
Back v Master of the Supreme Court [1996] 2 All SA 161 (K), Ex parte Williams: In re Williams’
Estate 2000 (4) SA 168 (T) en veral die beslissing van die Hoogste Hof van Appèl in Bekker v
Naude 2003 (5) SA 173 (HHA). Sien bespreking van hierdie hofsaak in J&R op p84.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons die testamentsformaliteite bespreek. Al die inligting in hierdie
studie-eenheid is van uiterste belang.
Doen die volgende om u geheue te verfris en u begrip te bevorder:
Stel ’n uitvoerige lys op van die formaliteite wat uitgevoer moet word

 wanneer ’n testateur sy of haar testament met sy of haar eie handtekening onderteken

 wanneer ’n testateur die testament met ’n merk onderteken

 wanneer iemand namens die testateur teken

In die volgende studie-eenheid gaan ons herroeping en herlewing van testamente bestudeer.

28
PVL2602/501

STUDIE-EENHEID 6: HERROEPING EN HERLEWING VAN TESTAMENTE


Oorsig
In die vorige studie-eenheid het ons testamentsformaliteite bestudeer asook formaliteite ten
aansien van wysiging van ’n testament. In hierdie studie-eenheid gaan ons kyk na herroeping
en herlewing van testamente. U sal sien dat die grootste verskil tussen wysiging en herroeping
van testamente, vanuit ’n regsoogpunt, is dat herroeping geen nakoming van formaliteite vereis
nie. Daarenteen geld dieselfde formaliteite soos by die verlyding van ’n testament wanneer
wysigings aan ’n testament aangebring word.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) verskillende metodes van herroeping van testamente te kan identifiseer
(2) uitdruklike herroeping te kan bespreek
(3) geïmpliseerde of stilswyende herroeping te kan bespreek
(4) ’n hof se bevoegdheid om ’n testament as herroep te verklaar, te kan verduidelik
(5) die vermoedens ten aansien van herroeping te kan bespreek
(6) te kan verduidelik of, wanneer, en hoe ’n herroepte testament weer kan herleef

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 6: HERROEPING EN HERLEWING VAN TESTAMENTE
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 6.1–6.3 (pp91–98)


–– Ignoreer par 6.4 (p99 – middel van p100)

 Par 6.5–6.6 (pp89–96)


–– Ignoreer par 6.7 (p109)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 6.1 INLEIDING
In die inleiding word verduidelik dat ’n testateur ’n testament na goeddunke kan herroep, mits hy
of sy die bedoeling het om die testament te herroep en dit op ’n regserkende wyse doen. Daar
is egter twee uitsonderings op hierdie reël, naamlik wanneer boedelsamesmelting plaasgevind
het (sien Hoofstuk 9) en in die geval van ’n voorhuwelikse kontrak.

29
2 Par 6.2 WYSES VAN HERROEPING VAN ’N TESTAMENT
HOFSAAK: Bestudeer
Marais v The Master 1984 (4) SA 288 (D)
In hierdie paragraaf en die subparagrawe verduidelik ons die verskillende erkende metodes van
herroeping van ’n testament. ’n Testateur wat ’n testament op enige van hierdie wyses herroep,
hoef nie te voldoen aan enige formaliteite nie. Dit is ook moontlik dat ’n testateur slegs ’n
gedeelte van ’n testament herroep en in so ’n geval is die bedoeling van die persoon van groot
belang. As hy of sy bedoel om ’n deel van die testament te herroep, hoef geen formaliteite
nagekom te word nie, maar, as hy of sy bedoel om die testament te wysig, moet daar aan
sekere formaliteite voldoen word. As ’n hof egter met ’n testament te make het waar dit
onduidelik is of die testateur ’n wysiging of gedeeltelike herroeping in gedagte gehad het en
daar geen formaliteite blyk nie, sal die hof waarskynlik bevind dat die testateur ’n gedeeltelike
herroeping beoog het. Die rede hiervoor is dat die hof eerder ’n interpretasie sal volg
waarkragtens die testament (of die herroeping) as geldig aanvaar kan word, as ’n interpretasie
wat dit as ongeldig sal laat voorkom.
’n Voorbeeld hiervan is waar ’n testateur bloot twee strepe deur ’n deel van ’n testament trek.
Dit lyk na ’n wysiging wat die testateur en twee getuies se handtekeninge sal benodig, maar dit
kan ook wees dat die testateur bloot bedoel het om daardie deel van die testament te herroep,
in welke geval geen formaliteite nagekom hoef te word nie. Die hof sal gewoonlik
laasgenoemde benadering volg.
3 Par 6.3 VERMOEDENS VAN TOEPASSING OP DIE HERROEPING VAN TESTAMENTE
Die vermoedens waarna in hierdie paragraaf verwys word, is regsvermoedens wat deur die jare
ontwikkel het om die howe te help om ’n beslissing te bereik. Hierdie vermoedens is van groot
belang wanneer dit bekend is dat ’n testateur wel ’n testament gehad het, maar die dokument
na sy dood nie gevind kan word nie, met ander woorde, waar ’n testament oënskynlik
weggeraak het.
4 Par 6.5 HERLEWING VAN TESTAMENTE
HOFSAAK: Bestudeer
Moses v Abinader 1951 (4) SA 537 (A)
Wanneer ’n testateur ’n testament herroep kan daardie testament nie outomaties herleef deur
die herroepende testament bloot te herroep of te vernietig nie. So ’n situasie kan opduik
wanneer ’n testateur Testament 1 verly en dit dan herroep deur in Testament 2 te verklaar dat
hy of sy Testament 1 herroep. Later besluit die testateur dat Testament 1 tog beter is as die
tweede een, en herroep dan Testament 2 deur middel van ’n dokument wat bloot lui: “Ek
herroep hiermee Testament 2”.
Dit is belangrik om daarop te let dat Testament 1 nie outomaties weer na die testateur se dood
geldig sal wees nie (maw dit herleef nie outomaties nie) en volgens hierdie feite sal die testateur
inderwaarheid intestaat sterf! Om Testament 1 weer geldig te maak, sal dit herverly moet word.
Die testateur moet dus Testament 1 weer in die geheel oor-verly soos dit was, of hy moet dit
inkorporeer deur middel van verwysing in die dokument wat Testament 2 herroep. Dit dokument
moet dus lui: “Ek herroep Testament 2 en verklaar Testament 1 as my finale testament.” Hierdie
herlewingsdokument moet dan voldoen aan alle testamentêre vereistes.

30
PVL2602/501

5 Par 6.6 HERROEPING DEUR DIE HOF: ARTIKEL 2A


Artikel 2A stem baie ooreen met artikel 2(3) in die sin dat ’n hof in sekere omstandighede ’n
testament as herroep kan verklaar. In hierdie paragraaf verduidelik ons ook wanneer ’n hof ’n
testament as gedeeltelik herroep kan verklaar.
Let asseblief op hoe na hierdie artikels verwys moet word: Artikel 2A – die A is ’n hoofletter.
Sien weer u studiemateriaal vir die module “Inleiding tot die reg”, waar die verskillende maniere
waarop na artikels verwys word, en die redes daarvoor, verduidelik word.

AKTIWITEIT
Hoe het die betrokke testateur in Marais v The Master 1984 (4) SA 288 (D) probeer om sy
testament te herroep? Wat het die hof in hierdie saak beslis – was die testament geldig
herroep? Indien artikel 2A van die Wet op Testamente reeds in werking was toe hierdie saak
beslis is, sou dit ’n verskil aan die hof se beslissing gemaak het?
Wat u moet doen: Bestudeer Marais v The Master 1984 (4) SA 288 (D).
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Onthou dat artikel 2A nou die hof magtig om ’n
testament of ’n gedeelte daarvan as herroep te verklaar as die testateur se bedoeling om te
herroep duidelik is uit die testament of ’n ander dokument. In Marais sou die beslissing
dieselfde gewees het as dit kragtens die huidige Suid-Afrikaanse reg beslis is, aangesien die
testateur se bedoeling om te herroep duidelik was uit ’n ander dokument.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons geleer dat ’n testament herroep mag word sonder dat aan
enige formaliteite voldoen hoef te word en dat ’n herroepte testament nie outomaties herleef
nie. Ons het ook geleer dat ’n hof ’n testament as herroep of gedeeltelik herroep kan verklaar
kragtens die Wet op Testamente.
Lees weer Marais v The Master 1984 (4) SA 288 (D) en Moses v Abinader 1951 (4) SA 537 (A)
om u geheue te verfris.
In die volgende studie-eenheid gaan ons begunstigdes se bevoegdheid om te erf bestudeer.

31
STUDIE-EENHEID 7: BEVOEGDHEID OM TE ERF
OORSIG
In die studie-eenhede wat ons tot dusver bestudeer het, het ons gekyk na die testament en die
formaliteite daarvoor asook na die wysiging en herroeping van testamente. Ons gaan nou kyk
na begunstigdes se bevoegdheid om te erf, beide volgens die intestate en testate erfreg.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) te kan bepaal wie onbevoeg is om te erf
(2) die posisie van aangenome en buite-egtelike kinders asook dié van persone met
gekrenkte geestesvermoëns te verduidelik
(3) te kan verduidelik wanneer ongebore kinders kan erf ingevolge ’n testament
(4) te kan onderskei tussen begunstigdes wat glad nie mag erf nie, daardie wat nie mag erf
ingevolge die reëls van intestate erfopvolging nie en daardie wat nie mag erf ingevolge die
reëls van testate erfopvolging nie
(5) die posisie te kan verduidelik van begunstigdes wat betrokke was by die verlyding van die
testament
(6) te kan verduidelik wat met ’n begunstigde se voordeel gebeur as hy of sy gediskwalifiseer
word om daardie voordeel te erf

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 7: BEVOEGDHEID OM TE ERF
Bestudeer die volgende ui J&R:

 Par 7.1–7.3 (pp111–117)

 Par 7.4: Bestudeer 7.4.1 (pp118–119)


–– Ignoreer par 7.4.1.1 tot net voor par 7.4.2 (pp119–123)

 Par 7.4.2–7.4.4 (pp123–127)


–– Ignoreer par 7.5 (p127)

32
PVL2602/501

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 7.1–7.3 INLEIDING – PERSONE WAT BEVOEG IS OM TE ERF: REGSPERSONE
HOFSAAK: Bestudeer
Harris v Assumed Administrator Estate MacGregor 1987 (3) SA 563 (A)
Teenswoordig is die fundamentele beginsel dat enige persoon, hetsy ’n natuurlike persoon of ’n
regspersoon, gebore of ongebore, ’n begunstigde kragtens ’n testament mag wees. Kragtens
die gemenereg is sekere persone (bv moordenaars – sien par 7.4.1) egter onbevoeg om van ’n
testateur te erf, terwyl die Wet op Testamente 7 van 1953 ook sekere persone (bv persone
betrokke by die verlydingsproses) van erfopvolging uitsluit. Al hierdie kategorieë persone word
bespreek en die posisie van aangenome, buite-egtelike en ongebore kinders, asook dié van
persone met gekrenkte geestesvermoëns, word onder oë geneem.
2 Par 7.4 PERSONE WAT ONBEVOEG IS OM TE ERF
HOFSAKE: Bestudeer
Ex parte Steenkamp and Steenkamp 1952 (1) SA 744 (T)
Gafin v Kavin 1980 (3) SA 1104 (W)
L. Taylor v A.E. Pim (1903) 24 NLR 484
Casey v The Master 1992 (4) SA 505 (N)
’n Persoon wat opsetlik die dood van die oorledene veroorsaak het, mag geen voordeel erf uit
die boedel van die oorledene nie, ooreenkomstig die stelreël De bloedige hand er neemt geen
erfenis. Dus mag ’n moordenaar nie van sy of haar slagoffer erf nie (sien Ex parte Steenkamp
and Steenkamp 1952 (1) SA 744 (T)). Dit is ’n gemeenregtelike beginsel wat uit die Romeinse
reg oorgeneem is. Dit is nie ’n algemene onwaardigheid om te erf wat ten aansien van die
moordenaar geld nie, maar ’n onwaardigheid om van sy of haar slagoffer en sekere persone
baie na verwant aan die slagoffer te erf.
Let daarop dat “algemene onwaardigheid” beteken dat ’n persoon onwaardig is om te enige tyd
van enige iemand te erf. Die feit dat ’n persoon iemand anders vermoor het maak hom of haar
nie onwaardig om van alle persone te erf nie. Dit maak hom of haar net onwaardig om van
sekere persone te erf. ’n Moordenaar mag van ander persone as sy of haar slagoffer erf en kan
dus van die slagoffer se erfgenaam erf, aangesien laasgenoemde nie die slagoffer was nie. As
B byvoorbeeld vir C vermoor het, mag B van C se vriend, D, wat as erfgenaam in C se
testament benoem is, erf.
Dit beteken dat as Christopher vir Daniel aangewys het as sy erfgenaam, en Daniel vir Ben
aangewys het as sy erfgenaam, Ben nie onbevoeg sal wees om van Daniel te erf omdat hy vir
Christopher vermoor het nie. Dit sal egter net die geval wees wanneer die drie mans nie familie
is van mekaar nie. As hulle familie is, geld die volgende:
By intestate erfopvolging: As ’n man se oupa sterf nadat sy pa reeds oorlede is, erf hy
gewoonlik deur sy pa te representeer. As ’n man wie se pa reeds dood is, egter sy oupa
vermoor, mag die moordenaar nie van sy oupa erf deur sy pa te representeer nie, aangesien
die moordenaar dan van sy oupa, wat hy vermoor het, erf. Vergelyk hierdie situasie met die
feite in die Steenkamp-saak.

33
By testate en intestate erfopvolging: Volgens die Steenkamp-saak mag ’n persoon wat die
oorledene se ouer, kind of gade vermoor het, ook nie van die oorledene erf nie. Die rede
hiervoor is dat om die ouer, kind of gade van die oorledene te vermoor, beskou word as ’n
ernstige benadeling van die oorledene self sowel as van die slagoffer. Die verbod strek egter
nie verder as die ouer, kind of gade nie. ’n Persoon wat die oorledene se grootouer, broer of
kleinkind vermoor het, word nie outomaties uitgesluit van vererwing nie.
Hy of sy sal egter uitgesluit word as die gevolg van die moord direk tot sy of haar voordeel is,
want die reg laat ’n persoon nie toe om onbillik voordeel te trek uit ’n onregmatige handeling nie.
Daar moet egter ’n duidelike kousale verband wees tussen die misdaad en die voordeel. In Ex
parte Steenkamp het die hof bevind dat die toets vir ’n kousale verband dieselfde moet wees as
die toets wat vir deliktuele aanspreeklikheid toegepas word. Die toets wat die hof toegepas het,
was een van ’n gewone, natuurlike of redelik voorsienbare gevolg. In Steenkamp is bevind dat
sodanige kousale verband afwesig was.
Die situasie waar ’n begunstigde ’n testateur vermoor, met ander woorde, die dood opsetlik
veroorsaak, moet onderskei word van die situasie waar ’n begunstigde op nalatige wyse die
dood veroorsaak. Ingevolge die gemenereg is ’n persoon wat ’n testateur se dood nalatig
veroorsaak het, ook onbevoeg om van daardie persoon te erf (sien Taylor v Pim (1903) 24 NLR
484).
Dit wil egter voorkom asof ’n bykomende vereiste ontwikkel het wanneer iemand wat nalatig ’n
dood veroorsaak het, se bevoegdheid om te erf beoordeel word. Van der Walt en Sonnekus
1981 TSAR 30 doen aan die hand dat so ’n persoon onbevoeg moet wees om van die slagoffer
te erf slegs indien sy of haar handeling moreel onaanvaarbaar is. Dit beteken dat ’n kind wat sy
of haar moeder se dood in ’n motorongeluk veroorsaak het, nie geraak sal word nie, terwyl ’n
persoon soos in Taylor v Pim (1903) 24 NLR 484 onbevoeg sal wees om te erf. Sien ook Casey
v The Master 1992 (4) SA 505 (N).
Die Wet op Testamente bepaal dat sekere persone wat betrokke is by die verlyding van ’n
testament ook onbevoeg is om ingevolge daardie testament te erf. Artikel 4A maak egter
voorsiening vir uitsonderings op hierdie reël − bestudeer par 7.4.3 ten aansien van hierdie
uitsonderings.

AKTIWITEIT
Scenario (1)
Mnr Tandikwe het ’n testament verly waarin hy die volgende bepalings gemaak het:
“(1) Ek bemaak my strandhuis aan my suster Susan.
(2) My motorfiets gaan aan my vriend Dallas.
(3) My huis in Waterkloof laat ek na aan my aangenome seun Greg.
(4) Die restant van my boedel bemaak ek in gelyke dele aan my kinders.
(5) Aan my vrou, mev Tandikwe, wat my verneuk het, bemaak ek niks.”
Mnr Tandikwe het die testament met sy eie handtekening onderteken en sy suster Susan en sy
vriend Dallas het as getuies geteken. Mnr Tandikwe is in 2009 deur sy aangenome seun Greg
vermoor. Hy word oorleef deur sy vrou, mev Tandikwe, sy aangenome seun Greg en sy twee
eie kinders Ben en Charlie.
34
PVL2602/501

Wat u moet doen:


(a) Bespreek die bevoegdheid van die volgende begunstigdes om te erf:
(i) Mnr Tandikwe se suster Susan en sy vriend Dallas.
(ii) Sy aangenome seun Greg.
(iii) Sy vrou mev Tandikwe.
(b) Bespreek enige moontlike eise wat mev Tandikwe mag instel teen mnr Tandikwe se boedel.
(U sal hierdie vraag eers kan beantwoord nadat u die deel oor oorlewende gades se
onderhoudseise in Hoofstuk 8 bestudeer het.)
(c) Indien Dallas weier om die motorfiets te aanvaar, hoe sal hierdie voordeel vererf?
Enkele riglyne voordat u begin skryf:
(a) Die bevoegdheid van bepaalde begunstigdes om te erf:
(i) Mnr Tandikwe se suster Susan en sy vriend Dallas
Ingevolge artikel 4A(1) van die Wet op Testamente is ’n getuie tot ’n testament, of die
persoon wat die gade van sodanige getuie is ten tyde van die opstel van die testament
onbevoeg om enige voordeel kragtens die testament te ontvang.
Kragtens artikel 4A(2) mag die hof egter so ’n persoon of sy of haar gade as bevoeg
verklaar om ’n voordeel kragtens die testament te ontvang indien die hof oortuig is dat die
persoon of sy of haar gade nie die testateur bedrieg of onbehoorlik beïnvloed het by die
verlyding van die testament nie. Susan en Dallas sal by die hof moet aansoek doen om ’n
verklaring dat hulle nie die testateur onbehoorlik beïnvloed het nie voordat hulle sal kan erf.
Ingevolge artikel 4A(2) is ’n persoon of sy of haar gade nie onbevoeg om ’n voordeel
ingevolge die testament te ontvang nie indien die persoon intestaat sou geërf het as die
testateur intestaat gesterf het. Hierdie persoon of sy of haar gade mag egter nie meer
ontvang as wat die geval sou gewees het as hulle intestaat sou geërf het nie. In die feitestel
hierbo is daar ander intestate erfgename en Susan is nie ’n intestate erfgenaam nie.
(ii) Sy aangenome seun Greg
Alhoewel die feit dat Greg aangeneem is, hom nie uitsluit om te erf nie aangesien
aangenome kinders soos eie kinders behandel word, is ’n persoon wat opsetlik die dood
van die oorledene veroorsaak het, onbevoeg om enige voordeel uit die boedel van die
oorledene te erf. ’n Moordenaar (Greg) is dus onbevoeg om enige voordeel van sy slagoffer
(Mnr Tandikwe) te erf.
Dit is nie ’n algemene onbevoegdheid wat die moordenaar toeval nie, maar slegs ’n
onbevoegdheid om van sy of haar slagoffer te erf, asook om van die oorledene te erf as die
moordenaar sekere persone wat baie na verwant aan die oorledene is, vermoor het. ’n
Persoon wat die oorledene se ouer, kind of gade vermoor het, mag ook nie van die
oorledene erf nie (sien Ex parte Steenkamp and Steenkamp 1952 (1) SA 744 (T)).

35
(iii) Sy vrou, mev Tandikwe
Sy is nie onbevoeg om te erf nie (maw sy het die bevoegdheid om te erf) maar sy is onteien
en kan dus niks erf nie.
(b) Alhoewel die oorlewende gade onteien is, mag sy ’n eis om onderhoud instel kragtens die
Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990 (sien Hoofstuk 8).
(c) Hierdie voordeel sal val binne die restant van die boedel wat verdeel moet word soos in die
testament bepaal. Die testateur het bepaal dat die restant aan “my kinders” moet gaan.
Ingevolge artikel 2D sluit hierdie frase kinders in wat leef of reeds verwek is ten tyde van die
vestiging van die voordeel en wat later lewend gebore word. Dit beteken dat die restant, met
inbegrip van die motorfiets, verdeel moet word tussen Ben en Charlie. Greg sou ingesluit
gewees het, aangesien aangenome kinders dieselfde as eie kinders moet erf, maar hy is
onbevoeg weens die moord wat hy gepleeg het.
Scenario (2)
Tandi, ’n wewenaar, vra sy skoondogter, Sally, ’n regstudent, om vir hom ’n testament op te
stel. In die testament bepaal hy dat sy boedel gelykop verdeel moet word tussen sy drie
kinders, Bongani, Charlie en Dillon. (Sally is met Bongani getroud.) Sy seun Charlie word
benoem as eksekuteur van Tandi se boedel. Nadat Sally die testament getik het, het Tandi dit
in die teenwoordigheid van al sy kinders asook van Fred en Gina onderteken. Fred en Gina het
as getuies geteken. Gina is met Tandi se seun, Dillon getroud en Fred is ’n vriend van Tandi.
Wat u moet doen:
Beantwoord die volgende vrae:
(a) Het die testateur ’n geldige testament opgestel?
(b) Kan Bongani sonder meer kragtens die testament erf?
(c) Kan Charlie sonder meer kragtens die testament erf?
(d) Kan Dillon kragtens die testament erf?
Enkele riglyne voordat u begin skryf:
(a) Bestudeer Hoofstuk 5 en besluit of die testament geldig is. Gee redes vir u antwoord.
(b) Bongani sal kan erf omdat hy nie persoonlik betrokke was by die verlyding van die
testament nie. Die feit dat hy teenwoordig was is irrelevant omdat hy nie die testament in
enige hoedanigheid geteken het nie.
(c) Charlie was nie betrokke by die verlyding van die testament nie, al was hy teenwoordig en
sal dus kan erf en as eksekuteur van die boedel kan optree. As hy die testament as getuie
onderteken het of in enige ander hoedanigheid betrokke was by die verlyding daarvan, sou
hy onbevoeg gewees het om enige voordeel uit die boedel te ontvang, soos om as
eksekuteur op te tree. (Let daarop dat die testament nog geldig sou gewees het as hy as
getuie geteken het, maar dat hy dan onbevoeg sou gewees het om te erf of enige voordeel
te ontvang.)
(d) Omdat Dillon met een van die getuies getroud is, sal hy onbevoeg wees om te erf, tensy
een van die uitsonderings van artikel 4A van die Wet op Testamente toegepas word. In so
36
PVL2602/501

’n geval sal hy outomaties mag erf, maar hy sal nie meer erf as wat hy sou gekry het
ingevolge die intestate erfreg nie. Hy kan ook aansoek doen om ’n hofbevel waarin
verklaar word dat hy nie die testateur onbehoorlik beïnvloed het nie, in welke geval hy
geregtig sal wees op sy volle erfporsie soos in die testament bepaal.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons geleer dat begunstigdes wat in ’n testament benoem word of
wat kragtens die intestate erfreg bepaal word, soms onbevoeg mag wees om te erf. Dit is
belangrik om daarop te let dat hierdie diskwalifikasie nie spruit uit ’n algemene onbevoegdheid
nie.
Maak seker dat u die reëls ten aansien van onbevoegdheid by beide testate en intestate erfreg
ken.
Om u geheue te verfris, maak ’n lys van omstandighede waaronder begunstigdes onbevoeg sal
wees om te erf en maak seker dat u kan onderskei tussen intestate en testate erfreg wat dit
aanbetref.
In die volgende studie-eenheid gaan ons ’n testateur se testeervryheid bestudeer.

37
STUDIE-EENHEID 8: TESTEERVRYHEID
OORSIG
In hierdie studie-eenheid bespreek ons testeervryheid. Voordat u hierdie studie-eenheid
aanpak, moet u seker maak dat u die studie-eenheid oor testeerbevoegdheid (die bevoegdheid
van ’n persoon om ’n testament te maak) onder die knie het. U sal onthou dat
testeerbevoegdheid ’n voorvereiste is vir die verlyding van ’n testament. Testeerbevoegdheid
moet nie verwar word met testeervryheid nie. Testeervryheid is die vryheid wat ’n testateur het
om enige bepaling wat hy of sy goeddink in ’n testament in te sluit en die reg om sy of haar
boedel te verdeel soos wat hy of sy wil.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) te kan verduidelik wat testeervryheid is
(2) te kan bespreek of die Suid-Afrikaanse reg die beginsel voluntas testatoris servanda est
erken
(3) die beperkings op testeervryheid te kan verduidelik
(4) te kan verduidelik of ’n testateur naby verwante, soos ’n gade of kinders, mag onterf
(5) Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K) te kan bespreek met
verwysing na die hof se bevoegdheid om die bepalings van ’n testament te verander
kragtens sy gemeenregtelike bevoegdheid om nie bepalings in ’n testament wat as contra
bonos mores beskou word, af te dwing nie
(6) Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K) te kan bespreek om te
illustreer hoe die Grondwet ’n direkte impak op ’n testateur se testeervryheid kan hê
(7) Levy v Schwartz 1948 (4) SA 930 (W), Ex parte Swanevelder 1949 (1) SA 733 (O) en
Barclays Bank DC & O v Anderson 1959 (2) SA 478 (T) te kan bespreek met verwysing na
die geldigheid van bepalings in ’n testament wat inmeng met ’n begunstigde se
huweliksverhouding
(8) Aronson v Estate Hart 1950 (1) SA 539 (A) te kan bespreek met verwysing na die
geldigheid van sogenaamde “geloofsklousules”
(9) die geldigheid te kan bespreek van bepalings wat ’n begunstigde se bewegingsvryheid
beperk
(10) onderhoudseise wat ’n kind en ’n gade teen ’n oorledene se boedel kan hê, te kan
verduidelik
(11) die betekenis van die woorde “gade” en “langslewende” soos gebruik in die Wet op
Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990 met verwysing na Daniels v Campbell
2004 (5) SA 331 (KH), Hassam v Jacobs 2009 (5) SA 572 (KH), Volks v Robinson 2005 5
SA 446 (KH) en die Civil Union Act 17 of 2006, te kan bespreek
(12) die betekenis van “benoemingsbevoegdheid” te kan verduidelik, en te kan verduidelik
wanneer ’n testateur sy of haar benoemingsbevoegdheid mag delegeer
(13) bogenoemde beginsels op feitestelle te kan toepas

38
PVL2602/501

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 8: TESTEERVRYHEID
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 8.1–8.3 (pp129− bo-aan 146)


–– Ignoreer par 8.4 (pp146−147)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 8.1 INLEIDING
In die eerste paragraaf verduidelik ons die konsep testeervryheid en wat dit in die praktyk
beteken. U sal sien dat testeervryheid verwys na die vryheid wat ’n persoon het om ’n geldige
testament te verly wat die oorgang en gebruik van eiendom reël, asook die aktiwiteite en lewens
van ander persone na sy of haar dood. Van die implikasies hiervan is dat ’n testateur naby
verwante mag onterf ten gunste van vriende of kennisse en dat ’n hof nie die bindende
klousules van ’n testament mag wysig nie, selfs al stem al die begunstigdes tot die testament
daartoe in.
2 Par 8.2 BEPERKINGS OP TESTEERVRYHEID
HOFSAKE: Bestudeer
Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K)
Levy v Schwartz 1948 (4) SA 930 (W)
Ex parte Swanevelder 1949 (1) SA 733 (O)
Barclays Bank DC & O v Anderson 1959 (2) SA 478 (T)
Aronson v Estate Hart 1950 (1) SA 539 (A)
Daniels v Campbell 2004 (5) SA 331 (KH)
Hassam v Jacobs 2009 (5) SA 572 (KH) (sien hfst 2 van hierdie studiegids)
Volks v Robinson 2005 5 SA 446 (KH)
In hierdie paragraaf bespreek ons die beperkings in ons reg ten aansien van testeervryheid.
Daar word ’n onderskeid getref tussen statutêre beperkings, gemeenregtelike beperkings,
grondwetlike beperkings en indirekte beperkings.
“Statutêre beperkings” is beperkings wat deur statutêre bepalings opgelê word, soos die Wet op
die Opheffing of Wysiging van Beperkinge op Onroerende Goed 94 van 1965, wat die duur van
fideicommissa oor onroerende goed beperk.
“Gemeenregtelike beperkings” is te vinde in die gemenereg en word deur die howe toegepas as
hulle nie uitvoering gee aan bepalings in ’n testament wat beskou word as teen die openbare
beleid (contra bonos mores) nie.

39
Twee voorbeelde word hier bespreek, naamlik bepalings wat inmeng in ’n begunstigde se
huweliksverhouding en bepalings wat ’n begunstigde se bewegingsvryheid beperk.
“Grondwetlike beperkings” verwys na die feit dat sekere bepalings in ’n testament ongeldig
verklaar mag word (wat in effek die testateur se testeervryheid beperk) omdat hulle ’n bepaling
in die Grondwet skend, byvoorbeeld die bepaling dat daar teen geen persoon op onregverdige
wyse gediskrimineer mag word nie. As ’n testateur byvoorbeeld in sy of haar testament ’n
bepaling het dat slegs persone van ’n sekere ras mag erf, mag die howe so ’n bepaling as
ongeldig verklaar. Bestudeer in hierdie verband Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006
(4) SA 205 (K). Hierdie saak word in Studie-eenheid 11 (par 11.5) bespreek.
In die paragraaf waar indirekte beperkings op testeervryheid bespreek word, verduidelik ons dat
onderhoudseise van kinders en dié van gades teen ’n oorledene se boedel ’n testateur se
vryheid indirek kan beperk. Selfs al het ’n testateur sy of haar kinders of gade onterf, mag hulle
nog geregtig wees om onderhoud van die oorledene se boedel te eis. Onderhoudseise kan dus
beskou word as ’n indirekte beperking op ’n testateur se testeervryheid.
Belangrike ontwikkelings het die afgelope paar jaar in hofbeslissings plaasgevind wat betref die
interpretasie van die woorde “gade” en “langslewende” met verwysing na die Wet op
Onderhoud van Langslewende Gades en die Wet op Intestate Erfopvolging (wat in Studie-
eenheid 2 bespreek word). Bestudeer die voorgeskrewe hofsake aandagtig. As gevolg van die
hofbeslissing, word die woorde “gade” en “langslewende” nou geïnterpreteer om ook ’n
oorlewende deelsgenoot in ’n Moslem-huwelik en in ’n lewensvennootskap van persone van
dieselfde geslag in te sluit. Teenswoordig word ’n oorlewende deelsgenoot in ’n heteroseksuele
lewensvennootskap egter nie ingesluit nie. Dink na oor die regverdigheid van hierdie situasie en
besluit self hoe u hieroor voel nadat u die relevante hofbeslissings gelees het.
Die Civil Union Act het ook ’n impak gehad op die interpretasie van die woord “gade” aangesien
dit bepaal dat ’n gade ook ’n vennoot tot ’n burgerlike verbintenis insluit.
3 Par 8.3 BENOEMINGSBEVOEGDHEID
HOFSAAK: Bestudeer
Braun v Blann and Botha 1984 (2) SA 850 (A)
Die laaste belangrike onderwerp in hierdie studie-eenheid is benoemingsbevoegdheid of die
bevoegdheid wat ’n testateur het om sy of haar begunstigdes te benoem. U sal opmerk dat die
algemene reël is dat testateurs self hulle begunstigdes moet benoem. Gevolglik sal ’n bepaling
in ’n testament wat soos volg lui, ongeldig wees: “My erfgename is enige persone wat my vriend
John kies.” Dit is ’n ongeldige delegasie van testamentêre bevoegdheid en so ’n testament kan
nie verly word nie.
U moet die uitsonderings op die algemene reël wat in hierdie paragraaf bespreek word,
bestudeer. Let ook daarop dat Braun v Blann and Botha 1984 (2) SA 850 (A) bestudeer moet
word met verwysing na spesiale benoemingsbevoegdheid.

AKTIWITEIT
Kort scenario: ’n Testateur het ’n testament opgestel waarin hy bepaal het dat die restant van sy
boedel in ’n trust gehou moet word. Hy het voorts bepaal dat die administrateurs van sy boedel
die inkomste uit die trust moet gebruik om beurse te voorsien aan “Unisa-studente van
Europese afkoms wat beperkte of geen middele het nie”.
40
PVL2602/501

Wat u moet doen: Bespreek uitvoerig of hierdie bepaling deur die howe afgedwing sal word.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Hierdie vraag hou verband met testeervryheid en die
omstandighede waaronder ’n hof mag inmeng in die bepalings wat ’n testateur in ’n testament
gemaak het. U moet relevante gewysdes bespreek en dan ’n gevolgtrekking bereik oor die
geldigheid al dan nie van hierdie bepaling. Verskaf redes vir u mening.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons verduidelik dat ’n testateur wye testeervryheid het maar dat
die reg sekere beperkings op ’n testateur se testeervryheid, die vryheid om begunstigdes te
benoem en die vryheid om die verdeling van sy of haar eiendom na haar dood te reël, plaas.
Weet u wat hierdie beperkings is noudat u hierdie studie-eenheid bestudeer het?
Skryf kort aantekeninge oor die volgende om u geheue te verfris en u begrip te bevorder:

 die betekenis van “testeervryheid”

 die beperkings op testeervryheid

 bepalings wat inmeng met ’n begunstigde se huweliksverhouding

 die langslewende gade se onderhoudseis teen die bestorwe boedel

 die betekenis van die woord “gade” met verwysing na onlangse hofbeslissings

 die algemene reël ten aansien van benoemingsbevoegdheid en die uitsonderings op


hierdie reël
In die volgende studie-eenheid bespreek ons sekere tipes bepalings wat in ’n testament kan
voorkom, te wete onvoorwaardelike bemakings, voorwaardes, die modus en boedel-
samesmelting.

41
STUDIE-EENHEID 9: INHOUD VAN TESTAMENTE – BEMAKINGS,
VOORWAARDES, DIE MODUS EN BOEDEL-
SAMESMELTING
OORSIG
In hierdie studie-eenheid bespreek ons die inhoud van testamente, met ander woorde, tipiese
bepalings in ’n testament word ontleed. Voordat u hierdie studie-eenheid aanpak, moet u seker
wees dat u die vorige studie-eenheid oor testeervryheid (Studie-eenheid 8) onder die knie het.
Omdat testateurs ingevolge die Suid-Afrikaanse reg feitlik onbeperkte testeervryheid geniet, kan
testamente se inhoud baie verskillend wees.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) begrippe/figure wat in testamente kan voorkom, soos bemakings, voorwaardes, termyne
(tydsbepalings), modus en boedelsamesmelting te kan identifiseer en verduidelik
(2) die vereistes vir en gevolge van hierdie figure te kan bespreek
(3) dies cedit en dies venit te kan bespreek as twee afsonderlike sub-momente ten aansien
van die vestiging van regte
(4) die verskil te kan verduidelik tussen ’n bemaking en ’n erflating en tussen ’n legataris en ’n
erfgenaam
(5) die verskil tussen ’n termyn en ’n voorwaarde te kan bespreek
(6) die verskil tussen ’n ontbindende en ’n opskortende termyn en tussen ’n ontbindende en ’n
opskortende voorwaarde te kan verduidelik
(7) te kan onderskei tussen ’n voorwaarde en ’n modus en te kan verduidelik hoe ’n modus in
’n testament kan voorkom
(8) ’n nudum praeceptum en die gevolge daarvan te kan verduidelik
(9) boedelsamesmelting en die gevolge daarvan te kan verduidelik
(10) die leerstuk van eleksie en hoekom dit relevant is by boedelsamesmelting te kan
verduidelik
(11) Rhode v Stubbs 2005 (5) SA 104 (HHA) met verwysing na boedelsamesmelting te kan
bespreek

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 9: INHOUD VAN TESTAMENTE – BEMAKINGS, VOOR-
WAARDES, DIE MODUS EN BOEDELSAMESMELTING
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 9.1–9.6 (pp149–168)


–– Ignoreer par 9.7 (pp168−169)
42
PVL2602/501

NB: Hoofstukke 9, 10 en 11 dek die essensie van testate erfreg en is dus uiters belangrik. Dit
is ook belangrik dat u vestiging van regte en die konsepte dies cedit en dies venit verstaan
(sien Hoofstuk 1), aangesien die tipes bemakings wat in hierdie hoofstukke bespreek word
hand aan hand gaan met die vestiging van begunstigdes se regte.

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 9.1 INLEIDING
In hierdie paragraaf verduidelik ons dat sekere begrippe wat herhaaldelik oor vele jare in
testamente voorgekom het deur die howe en regskrywers geïdentifiseer is en dat die gevolge
van hierdie begrippe vasgestel is. Daarom moet daar by die opstel van ’n testament sorg aan
die dag gelê word wanneer woorde soos “voorwaarde” of “vruggebruik” aangewend word,
aangesien hulle verwys na spesifieke konsepte met ’n spesifieke betekenis in ons reg en
spesifieke gevolge aan hulle geheg is.
2 Par 9.2 VESTIGING VAN REGTE
HOFSAAK: Bestudeer
Greenberg v Estate Greenberg 1955 (3) SA 361 (A)
Hierdie paragraaf handel oor die vestiging van ’n reg. Wanneer ’n reg in ’n persoon vestig, word
daardie persoon die houer van die reg. Ons verduidelik ook dat vestiging in erfreg uit twee sub-
momente bestaan, te wete dies cedit en dies venit. Dit is baie belangrik dat u die verskil tussen
hierdie twee momente moet ken en dat u dié twee momente moet kan toepas in ’n spesifieke
situasie. U moet byvoorbeeld kan verduidelik wanneer ’n vruggebruiker ’n gevestigde reg
bekom, of wanneer dies cedit en dies venit plaasvind in, byvoorbeeld, ’n voorwaardelike
bemaking of by enige ander konsep of figuur wat ’n testateur gebruik. Die uitwerking van
vestiging van ’n reg word ook bespreek en u moet dit deeglik bestudeer.
Bestudeer ook Greenberg v Estate Greenberg 1955 (3) SA 361 (A). In dié saak het die hof die
uitwerking van die proses van boedelbereddering op die oordra van voordele aan begunstigdes
verduidelik.
3 Par 9.3 BEMAKINGS
Bemakings word in ’n testament gemaak. ’n Testateur bemaak ’n voordeel aan ’n begunstigde.
’n Begunstigde kan ’n legataris of ’n erfgenaam wees. Die verskil tussen hierdie twee tipes
begunstigdes word in hierdie paragraaf verduidelik. U moet ook kan verduidelik wat die stelling
“legate geniet voorrang bo erfenisse” beteken. Ons verduidelik ook dat die verskil tussen
erfgename en legatarisse van belang is vir die doel van inbring. Hierdie onderwerp word in
Hoofstuk 12 bespreek en u sal dit eers ten volle verstaan nadat u Hoofstuk 12 bestudeer het.
Onthou om weer na hierdie onderwerp terug te keer nadat u Hoofstuk 12 bestudeer het.
Die begrippe “prelegaat” en “restant van die boedel” word in par 9.3.1 bespreek en is baie
belangrik vir u studie van die erfreg.
In par 9.3.1.1 bespreek ons vyf situasies wanneer ’n legaat misluk. U moet hierdie vyf situasies
kan noem en bespreek en ook kan verduidelik wat met ’n betrokke voordeel in elke geval
gebeur. Die eerste situasie waar ’n legaat verval of misluk staan bekend as adempsie. U moet
43
kan vasstel of adempsie in ’n bepaalde feitestel sal voorkom en kan verduidelik wat die
uitwerking daarvan sal wees. Met ander woorde, u moet kan verduidelik wat met die betrokke
voordeel sal gebeur indien adempsie plaasvind.
’n Bemaking kan onvoorwaardelik of voorwaardelik wees. U moet die verskillende tipes
bemakings uit ’n feitestel kan identifiseer. ’n Onvoorwaardelike bemaking kan ook ’n termyn
bevat. ’n Bemaking wat afhang van ’n onsekere toekomstige gebeurtenis, is ’n voorwaardelike
bemaking. ’n Bemaking wat onderhewig is aan ’n sekere toekomstige gebeurtenis of ’n
tydsbepaling (in die sin dat dit beslis sal plaasvind) is onderhewig aan ’n termyn.
Termyne word in par 9.3.1.2 bespreek. Daar is twee tipes termyne, te wete ’n opskortende en ’n
ontbindende termyn. U moet hulle kan identifiseer uit ’n gegewe feitestel. By ’n opskortende
termyn word die begunstigde se genieting van die voordeel opgeskort of uitgestel totdat ’n
sekere gebeurtenis in die toekoms, soos die dood van ’n ander persoon, plaasgevind het. Aan
die ander kant, het ’n ontbindende termyn die uitwerking dat ’n reg op ’n voordeel wat reeds in
die begunstigde gevestig het en wat hy of sy reeds geniet, tot ’n einde sal kom by ’n
toekomstige gebeurtenis wat beslis sal plaasvind.
Voorwaardelike bemakings word in par 9.3.2 bespreek. Hier word weer eens ’n onderskeid
getref tussen opskortende en ontbindende voorwaardes en u moet uit ’n feitestel kan aflei met
watter een u te make het. ’n Opskortende voorwaarde skort die vestiging van die regte tot ’n
bemaking op (stel dit uit) totdat ’n onsekere toekomstige gebeurtenis plaasvind. ’n Ontbindende
voorwaarde het die uitwerking dat ’n reeds gevestigde reg beëindig word by die plaasvind van
’n onsekere toekomstige gebeurtenis. U moet die uitwerking van die verskillende tipes
voorwaardes op vestiging van regte van elke party betrokke by die boedel kan verduidelik.
Let daarop dat by ’n opskortende voorwaarde daar ook ’n ooreenkomstige ontbindende
voorwaarde iewers moet wees. Dit beteken dat as ’n voordeel aan X nagelaat word op
voorwaarde dat hy, byvoorbeeld, nie die land permanent verlaat nie (’n onseker toekomstige
gebeurtenis), daar ook iemand anders in die testament benoem moet word wat die voordeel sal
ontvang as X die land wel verlaat. Met ander woorde, daar moet ’n verdere bemaking (“gift
over”) van die voordeel aan ’n ander persoon wees, byvoorbeeld Y. As daar geen verdere
bemaking is nie, is die voorwaarde ’n nudum praeceptum en sal dit nie regtens geldig wees nie
(sien hieronder). Die bemaking aan X is onderhewig aan ’n ontbindende voorwaarde, en die
bemaking aan Y is onderhewig aan ’n ooreenkomstige opskortende voorwaarde. Die bepaling
dat Y die voordeel ontvang nadat X die land verlaat het, staan bekend as ’n fideicommissum
(sien volgende studie-eenheid vir meer hieroor).
4 Par 9.4 NUDUM PRAECEPTUM
Soos ons hierbo gesê het, as iemand verhoed word om op ’n sekere wyse met eiendom te
handel, moet die testament bepaal wie die eiendom sal kry as die verbod nie nagekom word
nie; daar moet dus ’n geldige verdere bemaking (“gift over”) aan iemand anders wees, anders is
die verbod in die testament ondoeltreffend. U moet ’n nudum praeceptum (voorskrif sonder
sanksie) kan verduidelik en ’n voorbeeld daarvan kan gee.
5 Par 9.5 MODUS OF LASBEPALING
As ’n testateur ’n begunstigde verplig om ’n bemaking of die opbrengs daarvan vir ’n bepaalde
doel aan te wend, word gesê die bemaking is onderworpe aan ’n modus. Die belangrike feit om
in hierdie verband te onthou, is dat voldoening aan die modus nie die vestiging van die
begunstigde se regte raak nie omdat ’n modus nie die bemaking voorwaardelik maak nie. Die
modus lê slegs ’n persoonlike verpligting op die begunstigde om te voldoen aan die lasbepaling.
44
PVL2602/501

Die doel van ’n modus kan wissel en kan óf in belang van die begunstigde self, óf in belang van
’n derde persoon, óf vir ’n onpersoonlike doel wees. Die doel word in par 9.5.1 bespreek. Let
daarop dat nie al hierdie vorme regtens afdwingbaar is nie. Let ook op die verskil tussen ’n
modus en ’n opskortende voorwaarde aan die een kant, en ’n modus en ontbindende
voorwaarde aan die ander kant (par 9.5.2).
6 Par 9.6 BOEDELSAMESMELTING
HOFSAAK: Bestudeer
Rhode v Stubbs 2005 (5) SA 104 (HHA)
Boedelsamesmelting kom dikwels in testamente in Suid-Afrika voor, veral by gesamentlike of
wederkerige testamente van pare wat binne gemeenskap van goed getroud is.
Boedelsamesmelting is egter nie beperk tot sodanige testamente nie en persone wie se
boedels saamgesmelt is vir die doeleindes van testamentêre beskikking, hoef nie met mekaar
getroud te wees nie.
Hierdie konsep kan die beste met ’n voorbeeld verduidelik word. ’n Voorbeeld van ’n bepaling in
’n testament wat daarop gemik is om boedelsamesmelting te bewerkstellig, kan gevind word
wanneer ’n man en ’n vrou, getroud binne gemeenskap van goed, hulle plaas aan hul seun
nalaat met ’n vruggebruik aan die langslewende gade. In die testament bemaak die eers-
sterwende gade nie alleen sy of haar helfte van die plaas nie (onthou dat gedurende hul leeftyd
is elke gade mede-eienaar van die plaas as gevolg van die gemeenskaplike boedel), maar
bemaak hy of sy ook die langslewende se halwe aandeel van die plaas. Met ander woorde, hy
of sy beskik ook oor die langslewende gade se helfte van die plaas. Deur oor die hele plaas te
beskik, word ’n deel van elkeen se boedels “saamgesmelt”. In ruil vir die opgee van sy of haar
eiendomsreg oor helfte van die plaas, ontvang die langslewende gade vruggebruik oor die hele
plaas. Voordat samesmelting in hierdie geval kan plaasvind, moet die langslewende gade die
voordeel aanvaar. Dit wil sê, hy of sy moet die vruggebruik oor die plaas aanvaar in ruil vir sy of
haar helfte van die plaas. As die langslewende die vruggebruik weier en verkies om sy of haar
helfte van die plaas te behou, vind boedelsamesmelting nie plaas nie.
Die drie vereistes vir boedelsamesmelting en die rol van die leerstuk van eleksie by
boedelsamesmelting word in par 9.6 bespreek. In par 9.6.1 verduidelik ons dat
boedelsamesmelting deur verskillende regsfigure bewerkstellig kan word (soos vruggebruik,
fideicommissum en ’n trust), en dat die regte van begunstigdes sal afhang van die betrokke
regsfiguur wat aangewend is.
In die verlede het die gemenereg bepaal dat die uiteindelike begunstigdes nie op enige saaklike
regte kon aanspraak maak ten aansien van daardie deel van die saamgesmelte boedel wat die
langslewende bygedra het nie. Hulle het slegs persoonlike regte teen die langslewende gehad.
As die langslewende gesekwestreer is na aanvaarding van voordele kragtens die testament wat
die boedelsamesmelting geskep het, het die uiteindelike begunstigdes slegs konkurrente eise
ten aansien van die eiendom wat die langslewende bygedra het gehad. Die wetgewer was egter
van mening dat dit ’n onbevredigende situasie geskep het en het derhalwe artikel 37 van die
Boedelwet ingestel om boedelsamesmelting en die regswerking daarvan te reël. Hierdie
onderwerp word in par 9.6.2 bespreek.
Die gevolge van samesmelting word in par 9.6.3 bespreek en u moet dit deeglik bestudeer.
U moet ook Rhode v Stubbs 2005 (5) SA 104 (HHA) bestudeer en die belang van hierdie saak
vir die erfreg kan verduidelik. Aangesien hierdie saak nie in die voorgeskrewe vonnisbundel
voorkom nie, bespreek ons dit hieronder kortliks. Let daarop dat hierdie beslissing beklemtoon
45
dat daar ’n vermoede teen boedelsamesmelting bestaan. Die feite van die saak bied ’n
interessante voorbeeld van hoe moeilik dit is om vas te stel of boedelsamesmelting inderdaad
plaasgevind het.
Rhode v Stubbs 2005 (5) SA 104 (HHA)
Feite:
Attie en Lettie Williams, wat binne gemeenskap van goed getroud was, het ’n gesamentlike
testament verly waarin hulle bepaal het dat die erf in Pniel, waarop hulle gewoon het en ten
aansien waarvan hulle okkupasiereg gehad het, na die dood van die eers-sterwende verdeel
moet word in twee ongeveer gelyke dele. Daar was twee huise op die erf, ’n ou huis en ’n nuwe
huis. Die regte op die een deel van die erf (met die ou huis daarop) is aan hulle seun, Arrie
Williams, nagelaat, en die regte op die ander deel (met die nuwe huis daarop) aan Ethel
Mentoor (Attie se dogter uit ’n vorige huwelik). Die bemakings is gemaak onderhewig aan ’n
vruggebruik ten gunste van die “langslewende van ons”.
Die testament het verder in klousule 8 bepaal (vertaling):
Ons benoem en wys die kinders gebore uit ons huwelik aan as erfgename van die restant van
ons gesamentlike boedel, los bates asook vaste eiendom . . . en ons wens is dat hulle die
restant in gelyke dele moet erf.
Toe Attie dood is, het sy deel van die onroerende eiendom op die twee legatarisse (Archie en
Ethel) oorgegaan, terwyl Lettie vruggebruik oor die hele eiendom geniet het. Voor Lettie se
dood was die situasie dat Ethel geregtig was op ’n onverdeelde helfte van die deel van die erf
met die nuwe huis daarop en dat Archie geregtig was op ’n onverdeelde helfte van die deel van
die erf met die ou huis daarop. Lettie was geregtig op onverdeelde helftes in albei dele van die
erf. Sy het ook vruggebruik oor die hele eiendom gehad. Op een stadium is die erf in twee
onderverdeel, en die deel van die oorspronklike erf met die nuwe huis daarop het Erf 171
geword.
Voor haar dood het Lettie ’n testament verly waarin sy haar helfte van Erf 171 aan Charles
Stubbs, haar seun uit ’n vorige huwelik, bemaak het. Sy het haar halwe aandeel in die ander erf
(met die ou huis) aan Archie bemaak.
Na Lettie se dood het ’n dispuut oor die eiendomme ontstaan. Daar is saamgestem dat al die
regte op die erf met die ou huis daarop in Archie gesetel was. Die okkupasiereg op die hele Erf
171 (met die nuwe huis) is egter in Ethel se naam by die Pniel Transitional Council (die
oorgangsraad) geregistreer, ten spyte daarvan dat die Meester ’n likwidasie- en
distribusierekening aanvaar het waarin die helfte van Erf 171 aan Charles toegestaan is. Dit
was gemene saak dat die regte van die betrokke persone en daarmee saam die korrektheid van
die oorgangsraad se besluit, net afgehang het daarvan of die gesamentlike testament van Attie
en Lettie, hulle boedels saamgesmelt het. (Indien boedelsamesmelting wel plaasgevind het, sou
Lettie se testeervryheid ingekort gewees het en sou sy nie oor haar helfte van die eiendom kon
beskik het op ’n wyse wat verskil het van die wyse waarop daar in die wederkerige testament
oor beskik is nie. Ethel sou dan die okkupasiereg ten aansien van Erf 171 geërf het.)
Die hof het verwys na The Receiver of Revenue, Pretoria v CH Hancke and Others

1915 AA 64, waar die volgende gesê is:

46
PVL2602/501

The two elements then which must concur in order to deprive the survivor of the right to revoke
the mutual testament are a disposition of the survivor’s property or a specific portion of it after
the survivor’s death, and an acceptance by the survivor of some benefit under the testament.
Upon electing to take the benefit, he automatically assents to the bequest. On the other hand if
he elects to reject the benefit, he reverts to his legal position before the testator’s death, the
mutual arrangement falls away, and the testament of the first dying operates only upon his
share of the property.
Die hof het daarop gewys dat daar sedertdien aanvaar is dat beskikking oor die langslewende
se eiendom na die dood van die eers-sterwende (dws, nie eers na die dood van die
langslewende nie) ook sal lei tot boedelsamesmelting, en die langslewende voor ’n keuse plaas,
naamlik om te besluit om die voordeel te verwerp of die voordeel te aanvaar onderhewig aan ’n
lasbepaling. Indien laasgenoemde gebeur, is die langslewende gebonde om uitvoering te gee
aan die modus of lasbepaling.
Die vraag was of aanvaarding deur die weduwee Williams van die voordele ingevolge die
wederkerige testament (vruggebruik oor die hele eiendom) gelei het tot boedelsamesmelting.
Die hof het bevind dat dit nie die geval was nie. Aanvaarding van die voordele uit ’n
wederkerige testament kan op sigself nie samesmelting teweegbring nie. As daar in die eerste
plek nie samesmelting was nie, is enige handeling deur die langslewende wat andersins op
adiasie sou neergekom het, betekenisloos (par 15). Alhoewel adiasie nodig is vir
boedelsamesmelting om doeltreffend te wees, is dit nie nodig vir die skepping daarvan nie. Aan
die ander kant het boedelsamesmelting op sigself ook gevolge. Dit bied bloot aan die
langslewende die keuse om voordele kragtens die testament te aanvaar, maar dit bind die
persoon ook met lasbepalings.
Die hof het daarop gewys (par 16) dat wanneer twee (of meer) testateurs gesamentlik ’n
testament opstel, grammatikale onsekerhede kan opduik. Die gebruik van die eerste persoon
meervoud (in Engels) maak dit nie duidelik aan die leser van die testament of elke testateur
slegs na hom- of haarself verwys, of ook na die ander testateur(s) nie. In ons reg is die
oplossing vir hierdie interpretasieprobleem te vinde in die gemeenregtelike reëls van uitleg, wat
bepaal dat wanneer ’n gesamentlike of wederkerige testament van partye wat binne
gemeenskap van goed getroud is, ontleed word, van die veronderstelling uitgegaan moet word
dat dit om twee afsonderlike testamente handel totdat die teendeel duidelik word. Die rede
hiervoor is in die gemenereg te vinde.
Die hof het (in par 17) verwys na Joubert v Ruddock 1968 (1) SA 95 (OK) te 98F−G waar
Eksteen R aangehaal het uit Van Leeuwen Censura Forensis 3.11.6, waarin hy die
belangrikheid beklemtoon het van die beginsel dat ’n mens jou testament moet kan verander tot
die dag van jou dood. Hierdie stelling is gestaaf deur die volgende sin: “. . . there is nothing to
which men are more entitled than that their power of making a last testament should be free,
and hence the rule; that no one can deprive himself of this power”.
Volgens die hof (par 18) was hierdie stelling nie heeltemal korrek nie. ’n Testateur kan deur
middel van samesmelting hom- of haarself die bevoegdheid ontneem om ’n testament te maak,
maar as daar enige onsekerheid bestaan oor sy of haar bedoeling, moet die testament
geïnterpreteer word op ’n wyse wat die grootste moontlike mate van testeervryheid toelaat. Dit
lei weer tot ’n ander reël ten aansien van interpretasie van testamente, naamlik dat daar ’n
vermoede teen boedelsamesmelting bestaan. Hierdie vermoede tree in werking wanneer die
goue reël vir interpretasie van testamente, naamlik om betekenis te heg aan die testateur se
woorde binne die raamwerk van die testament, nie toegepas kan word nie weens onsekerheid
of dubbelsinnigheid.
47
Die hof het daarop gewys (par 22) dat klousule 8 gehandel het oor ’n beskikking van “ons
gesamentlike boedel” na die dood van die langslewende. As dit uit die bewoording van hierdie
gedeelte duidelik was dat die eers-sterwende testateur die bedoeling gehad het om nie slegs
oor sy eie eiendom te beskik nie, maar ook dié van die langslewende, sou dit daarop gedui het
dat boedelsamesmelting beoog is. Volgens die hof was die bepaling in klousule 8 egter nie
naastenby duidelik genoeg om die vermoede teen boedelsamesmelting te weerlê nie: die
uitdrukking “ons gesamentlike boedel” het nie sonder twyfel daarop gedui dat die testateurs
boedelsamesmelting wou hê nie, aangesien die bepaling op twee maniere geïnterpreteer kan
word.
Na ontleding van die ander bepalings van die testament, het die hof bevind dat die bewoording
van Attie en Lettie se gesamentlike testament nie bewys lewer van weerlegging van die
vermoede dat dit as twee testamente geïnterpreteer moet word nie. Klousule 8 het nie duidelike
bewys gelewer van ’n bedoeling om hulle onderskeie boedels saam te smelt nie. Aangesien
boedelsamesmelting nie bedoel is nie, was Lettie regtens bevoeg om ’n nuwe testament te
maak en oor haar helfte van die twee eiendomme na haar wense te beskik. Sy was bevoeg om
haar helfte van Erf 171 aan Charles na te laat. Haar aanvaarding van die vruggebruik kon nie lei
tot boedelsamesmelting nie.
Om op te som: hierdie saak is vir die erfreg van belang om die volgende redes:

 Ingevolge ons gemeenregtelike reëls van uitleg moet mens ’n uitgaan van die
veronderstelling dat dit om twee afsonderlike testamente handel by ’n gesamentlike of
wederkerige testament van partye wat binne gemeenskap van goed getroud is, totdat
die teendeel duidelik word.
 Hierdie reël vloei voort uit die gemeenregtelike reël dat niemand hom- of haarself die
bevoegdheid om vryelik ’n laaste testament op te stel kan ontneem nie.
 ’n Testateur kan deur middel van boedelsamesmelting hom- of haarself die bevoegdheid
ontneem om ’n testament te maak, maar as daar enige onsekerheid is oor sy of haar
bedoeling, moet die testament geïnterpreteer word op ’n wyse wat die grootste
moontlike testeervryheid toelaat.
 Dit lei tot die bykomstige reël van uitleg, naamlik die vermoede teen boedel-
samesmelting, wat geld wanneer die goue reël van uitleg, naamlik om betekenis te gee
aan die testateur se woorde binne die raamwerk van die testament, nie toegepas kan
word nie omdat die woorde onduidelik of dubbelsinnig is.
 Voordat boedelsamesmelting kan plaasvind moet een testateur oor beide sy of haar eie
boedel (of ’n gedeelte daarvan) en die boedel (of gedeelte daarvan) van die ander
testateur beskik.
 Vir boedelsamesmelting om regskrag te kry, moet die langslewende begunstigde ’n
voordeel onder die gesamentlike testament adieer.
 As boedelsamesmelting nie bedoel is nie, kan aanvaarding van die voordele uit ’n
wederkerige testament nie op sigself boedelsamesmelting voortbring nie.

AKTIWITEIT
Kort scenario:
Testateur T bepaal soos volg in sy testament:
“Ek laat my plaas na aan my dogter Daisy, maar as sy Suid-Afrika binne die volgende vyf jaar
permanent verlaat, moet die plaas na my seun John gaan.”

48
PVL2602/501

Wat u moet doen: Identifiseer die relevante regsfiguur of begrip (tipe voorwaarde of termyn),
en bespreek die regte en verpligtinge van albei partye.
As die testateur nie bepaal het dat John die plaas moet kry as Daisy die land permanent verlaat
nie, wat sou met die plaas gebeur het as Daisy binne vyf jaar geëmigreer het?
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Dit gaan hier om die vraag of die testateur ’n
voorwaarde of ’n termyn op die begunstigde/s geplaas het. Om hieroor te besluit moet u uitvind
of die feit dat Daisy moontlik kan emigreer, ’n seker of onseker gebeurtenis is. Die regte en
verpligtinge van beide Daisy en John hang daarvan af of dit hier om ’n voorwaarde of ’n termyn
handel. Wat die tweede vraag betref, naamlik wat die situasie sou wees as daar geen verdere
bemaking aan John is nie, moet u weer kyk na ons bespreking van ’n nudum praeceptum.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons verduidelik dat sekere tipes bemakings in die erfreg
uitgekristalliseer het en ook sekere benaminge gekry het. Met verloop van tyd is sekere gevolge
ook aan hierdie konsepte geheg. Van hierdie konsepte is voorwaardes, termynklousules en
modusse.
Kan u die gevolge van bogenoemde regsfigure of begrippe op die vestiging van regte van
begunstigdes verduidelik?
Ons het ook verduidelik dat boedelsamesmelting in spesifieke omstandighede kan plaasvind.
Kan u onthou wat die bepalings van artikel 37 van die Boedelwet is ten aansien van die gevolge
van boedelsamesmelting?
Doen die volgende om u geheue te verfris en u begrip te bevorder:

 Skryf kort aantekeninge oor:


–– ’n onvoorwaardelike bemaking
–– ’n voorwaarde
–– ’n termyn
–– ’n modus
–– boedelsamesmelting
–– ’n legataris
–– ’n erfgenaam
–– adempsie
–– nudum praeceptum

 Verduidelik:
–– Wat beteken dies cedit en dies venit?
–– Watter uitwerking het ’n opskortende voorwaarde op vestiging van ’n begunstigde se regte?
–– Wat kry ’n begunstigde by die dood van die testateur? (Verwys na Greenberg v Estate
Greenberg.)
49
 Skryf kort paragrawe oor
–– die verskil tussen ’n voorwaarde en ’n termyn
–– die verskil tussen die woorde “opskortende” en “ontbindende” ten aansien van erfreg
–– ’n modus en hoe dit uitgedruk word (gee voorbeelde)
–– boedelsamesmelting en die gevolge daarvan
–– die leerstuk van eleksie en die belang daarvan by boedelsamesmelting

 Bespreek Rhode v Stubbs 2005 (5) SA 104 (HHA) met verwysing na


boedelsamesmelting.
In die volgende studie-eenheid gaan ons voort met die bespreking van die inhoud van ’n
testament en verduidelik die volgende tipes bepalings wat in ’n testament kan voorkom:
substitusie, vruggebruik en aanwas

50
PVL2602/501

STUDIE-EENHEID 10: INHOUD VAN TESTAMENTE – SUBSTITUSIE,


VRUGGEBRUIK EN AANWAS
OORSIG
In hierdie studie-eenheid sit ons die bespreking oor die inhoud van testamente voort, en ons kyk
na substitusie (wat die fideicommissum insluit), vruggebruik en aanwas. Voordat u hierdie
studie-eenheid aanpak moet u eers die vorige studie-eenheid, wat oor die vestiging van regte,
dies cedit, dies venit, voorwaardes en die nudum praeceptum handel, onder die knie kry. U sal
die inhoud van hierdie studie-eenheid nie kan verstaan as u nie die konsepte wat in die vorige
hoofstuk behandel is, ken nie. Kyk ook weer na Studie-eenheid 8 om u geheue te verfris oor
besondere benoemingsbevoegdheid.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) konsepte wat met testamente verband hou, soos direkte substitusie, fideikommissêre
substitusie, vruggebruik en aanwas te kan verduidelik
(2) die vereistes vir en gevolge van regsfigure in testamente, soos die fideicommissum,
vruggebruik en aanwas te kan bespreek
(3) te kan verduidelik wanneer dies cedit en dies venit plaasvind vir begunstigdes betrokke by
direkte substitusie, fideicommissum en vruggebruik
(4) die verskil te kan verduidelik tussen direkte substitusie en fideikommissêre substitusie
(5) te kan verduidelik wanneer direkte substitusie ex lege voorkom
(6) die regte en verpligtinge van die partye tot ’n fideicommissum te kan verduidelik
(7) ’n fideicommissum residui en ’n fideicommissum tacitum te kan identifiseer en bespreek
(8) die gevolge van ’n si sine liberis decesserit-klousule in ’n testament te kan bespreek
(9) die beslissing in Du Plessis v Strauss 1988 (2) SA 105 (A) te kan bespreek met verwysing
na die uitwerking van ’n si sine liberis decesserit-klousule in ’n testament
(10) te kan verduidelik wat ’n besondere benoemingsbevoegdheid is en hoe dit toepassing vind
by ’n fideicommissum
(11) te kan verduidelik wat in Van Zyl v Van Zyl 1951 (3) SA 288 (A) bevind is ten aansien van
die vermoede teen ’n fideicommissum in ons reg
(12) die verskil tussen vruggebruik en ’n fideicommissum te kan verduidelik (13) die bepalings
van artikel 6 van die Wet op die Opheffing of Wysiging van Beperkinge op Onroerende
Goed 94 van 1965 te kan bespreek en te kan verduidelik watter impak dit het op
fideicommissa oor onroerende goed
(13) die reg op aanwas en die gevolge daarvan te kan bespreek
(14) te kan verduidelik hoe om te bepaal of aanwas moet plaasvind
(15) te kan verduidelik wat samevoeging re, samevoeging re et verbis en samevoeging verbis
tantum is en wat die uitwerking van hierdie vorme van samevoeging is as besluit moet
word of aanwas moet plaasvind

51
(16) die belang van Lello v Dales 1971 (2) SA 330 (A) vir die reg van aanwas te kan verduidelik
(17) te kan verduidelik wanneer aanwas uitgesluit sal wees deur die werking van artikel 2C van
die Wet op Testamente

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 10: INHOUD VAN TESTAMENTE – SUBSTITUSIE ,
VRUGGEBRUIK EN AANWAS
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 10.1–10.9 (pp171–192)


–– Ignoreer par 10.10 (p192 - 193)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 10.1 INLEIDING
In die vorige studie-eenheid het ons verskeie regsfigure bestudeer wat ’n testateur by die
bepalings van sy of haar testament kan insluit. Ons het ’n termyn, ’n voorwaarde en ’n modus
ondersoek. In hierdie studie-eenheid gaan ons nog ’n regsfiguur bestudeer, te wete substitusie,
wat een van twee vorme kan aanneem: direkte of fideikommissêre substitusie. Ons gaan ook
vruggebruik en die gemeenregtelike reg op aanwas bespreek.
Bestudeer figuur 10.1 wat die verskillende tipes substitusie illustreer.
2 Par 10.2 SUBSTITUSIE
In hierdie paragraaf word die konsep substitusie bespreek. U sal leer dat substitusie plaasvind
wanneer ’n testateur ’n begunstigde benoem om ’n voordeel te erf en terselfdertyd ’n ander
begunstigde benoem om die plek in te neem van die eersgenoemde erfgenaam of legataris.
Daar is twee tipes substitusie. Die eerste tipe is waar een begunstigde benoem word as
alternatief vir ’n ander begunstigde, met ander woorde, óf die een óf die ander begunstigde erf.
Dit staan bekend as direkte substitusie. ’n Voorbeeld hiervan is waar ’n testateur John aanwys
as sy erfgenaam, maar bepaal dat as John voor hom (die testateur) sterf, moet Peter erf. Dus
kan óf John óf Peter erf. As John klaar geërf het, het Peter geen kans om ook te erf nie.
Die tweede tipe substitusie staan bekend as fideikommissêre substitusie. In hierdie geval erf
een begunstigde en later erf ’n ander begunstigde dieselfde voordeel. Die begunstigdes erf dus
een ná die ander. ’n Voorbeeld hiervan is waar ’n testateur sy plaas aan sy seun nalaat en
bepaal dat die plaas na sy seun se dood na sy kleinseun moet gaan. Die seun erf dus die plaas
en na sy dood erf die volgende begunstigde, die kleinseun, soos oorspronklik in die testateur se
testament bepaal is. Deur gebruik te maak van ’n fideikommissêre substitusie word ’n regsfiguur
geskep wat bekend staan as ’n fideicommissum.
Let daarop dat enige voorwaarde of termyn by ’n fideicommissum gevoeg kan word – met ander
woorde, ’n fideicommissum geld nie slegs as die testateur ’n verdere bemaking in die testament
52
PVL2602/501

invoeg ingeval die eerste begunstigde sou sterf nie. Sien die bespreking hieronder. Hierdie
regsfiguur en die posisie van die al die partye betrokke sal later uitvoeriger bespreek word.

3 Par 10.3 DIREKTE SUBSTITUSIE


In die vorige paragrawe het ons verduidelik wat direkte substitusie is en hoe dit verskil van
fideikommissêre substitusie. In hierdie paragraaf verduidelik ons dat daar twee tipes direkte
substitusie is: Eerstens kan die testateur daarvoor in sy of haar testament bepaal – dit staan
bekend as uitdruklike direkte substitusie. Die rede hoekom dit uitdruklike direkte substitusie
genoem word is omdat die testateur dit uitdruklik bepaal het – dit word nie deur die reg
geïmpliseer nie.
Tweedens kan direkte substitusie deur die reg geïmpliseer word. Dit staan bekend as direkte
substitusie ex lege omdat dit regtens in ’n testament ingelees word – die testateur het dit nie
uitdruklik in sy of haar testament ingeskryf nie. Daar is een geval van geïmpliseerde direkte
substitusie (of direkte substitusie ex lege) in ons reg, te wete soos geskep deur artikel 2C van
die Wet op Testamente.
Bestudeer die bespreking van artikel 2C in par 10.3.2 baie aandagtig. Ongelukkig is dit ’n baie
moeilike artikel en u moet seker maak dat u al die implikasies van artikel 2C(1) en 2C(2) goed
verstaan. Lees die bespreking in die handboek en lees dan weer wat ons hier verduidelik. Ons
gaan probeer om die twee artikels verstaanbaarder te maak met behulp van agtergrondinligting.
Let daarop dat hierdie twee subartikels nie gelyktydig toepassing vind nie. U moet aan die hand
van die gegewe feite besluit of artikel 2C(1) of artikel 2C(2) toepaslik is. Bestudeer die nuttige
tabel (Tabel 10.1) waar ons die verskille en ooreenkomste tussen die twee artikels uiteensit.
Dit is dalk vir u makliker om die verskille te onthou as u besef dat die onderliggende beginsel of
rasionaal agter artikel 2C(1) was om dit vir ’n kind moontlik te maak om afstand te doen van sy
of haar voordeel kragtens ’n testament (dit te repudieer) om sodoende sy of haar oorlewende
ouer te bevoordeel. Die wetgewer was van mening dat kinders in baie gevalle nie van die eers-
sterwende ouer wil erf nie, maar verkies dat die oorlewende ouer alles erf. Die rede hiervoor is
dat die kind dikwels reeds ’n selfonderhoudende volwassene is met ’n eie inkomste, terwyl die
oorlewende ouer dalk ’n pensioenaris met geen vaste inkomste is nie.
Voordat artikel 2C in werking getree het, was dit nie noodwendig die geval dat as ’n kind van sy
of haar voordeel afstand doen, die langslewende gade daardie voordeel sou erf nie. Dit het
alles afgehang van die bewoording van die testament. Dus het die wetgewer artikel 2C(1)
geskep wat bepaal dat as ’n kind as ’n begunstigde in ’n testament benoem is en die oorledene
se oorlewende gade ook in die testament benoem is en die kind dan van sy of haar voordeel
afstand doen, die oorlewende gade die kind se voordeel erf. Dit beteken in effek dat statutêre
aanwas plaasvind – die voordeel wat die kind sou ontvang het, val die gade toe. (Aanwas word
later in hierdie studie-eenheid uitvoeriger bespreek.)
Let daarop dat slegs wanneer die kind afstand doen van die voordeel, artikel 2C(1) van
toepassing sal word. As die kind voor die testateur sterf of onbevoeg is om te erf, is artikel 2C(1)
nie van toepassing nie. Dit is ook nie van toepassing as die kind minderjarig of
geestesongesteld is nie. Die rede hiervoor is dat die oorlewende gade ’n minderjarige of
geestesongestelde kind onbehoorlik kan beïnvloed om van sy of haar erflating ten gunste van
die gade afstand te doen.

53
Aan die ander kant is artikel 2C(2) geskep om dit vir ’n begunstigde in ’n testament, wat ’n
afstammeling van die testateur moet wees, moontlik te maak om deur sy of haar kinders
verteenwoordig te word as die begunstigde voor die testateur sterf, of as die begunstigde
onbevoeg is om van die testateur te erf. Daar kan dus gesê word dat artikel 2C(2) voorsiening
maak vir statutêre verteenwoordiging of representasie.

Artikel 2C(2) kan ook toegepas word as die afstammeling van sy of haar voordeel afstand doen,
maar slegs indien artikel 2C(1) nie toegepas kan word nie (maw, as daar geen oorlewende
gade is wat ook uit die testament voordeel trek nie). Indien die afstammeling van die voordeel
afstand doen en daar ’n oorlewende gade is wat in die testament as begunstigde benoem is,
sluit artikel 2C(1) die werking van artikel 2C(2) uit. Dit beteken dat indien die afstammeling van
sy of haar voordeel afstand doen en daar ’n oorlewende gade is op wie hierdie voordeel kan
oorgaan, laasgenoemde die voordeel ontvang. As die afstammeling egter van sy of haar
voordeel afstand doen en daar geen oorlewende gade is aan wie die voordeel kan toeval nie,
sal die afstammeling deur sy of haar kinders gerepresenteer word en hulle sal dan die voordeel
in die afstammeling se plek ontvang.
Let ook daarop dat, alhoewel artikel 2C(2) van toepassing is waar die begunstigde voor die
testateur sterf, die begunstigde lewendig moes gewees het toe die testament gemaak is. Dit is
so omdat die afstammeling slegs verteenwoordig mag word indien hy of sy op ’n voordeel
geregtig sou gewees het indien hy of sy die oorledene oorleef het. As die afstammeling gesterf
het voordat die testament opgestel is, sou hy of sy nie ’n voordeel kragtens die testament kon
ontvang het nie en dus is artikel 2C(2) dan nie van toepassing nie.
Dit is ook belangrik om te onthou dat as die betrokke begunstigdes nie afstammelinge van die
testateur is nie (maar bv sy of haar broers of susters), is artikel 2C nie van toepassing is nie. Dit
artikel geld slegs waar begunstigdes afstammelinge van die testateur is. Bestudeer die
voorbeelde in 10.3.2 aandagtig.
U het dalk die ooreenkomste opgemerk tussen artikel 2C(1) en 2C(2) en artikel 1(6) en 1(7) van
die Wet op Intestate Erfopvolging, wat in Studie-eenheid 2 bespreek is. Artikel 1(6) en 1(7) geld
waar ’n oorledene sonder ’n testament gesterf het (intestaat), terwyl artikel 2C(1) en 2C(2) geld
wanneer die oorledene ’n geldige testament nagelaat het.
4 Par 10.4 FIDEIKOMMISSÊRE SUBSTITUSIE (FIDEICOMMISSUM)
HOFSAAK: Bestudeer
Du Plessis v Strauss 1988 (2) SA 105 (A)
In hierdie paragraaf verduidelik ons die werking van ’n eenvoudige fideicommissum wat geskep
word deur fideikommissêre substitusie. Die fideicommissum is ’n onderwerp wat indringend
bestudeer kan word, maar vir ons doeleindes gaan ons slegs kortliks na enkele belangrike
aspekte daarvan kyk. Ons gaan veral fokus op die fideicommissum mortis causa wat in
testamente aangetref word. (’n Fideicommissum kan ook inter vivos geskep word in koop- en
verkoopkontrakte, skenkingskontrake en voorhuwelikse kontrakte maar dit is nie relevant vir ons
doeleindes nie.)
Fideicommissa kan in verskeie subgroepe verdeel word, te wete voorwaardelike fideicommissa,
fideicommissa met die si sine liberis-klousule en fideicommissa residui, wat elk sy eie reëls het.
Almal deel egter die gemeenskaplike kenmerk van opeenvolgende begunstigdes.
54
PVL2602/501

Daar word ’n breë onderskeid getref tussen fideicommissa wat uitdruklik deur ’n testateur in sy
of haar testament geskep word (par 10.4.1.1) en fideicommissa wat regtens geïmpliseer word
(par 10.4.1.2).
In paragraaf 10.4.1.1.1 bespreek ons voorwaardelike fideicommissa, wat onderverdeel kan
word in die fideicommissum conditionale (’n fideicommissum gekoppel aan ’n voorwaarde) en
die fideicommissum in diem (’n fideicommissum gekoppel aan ’n termyn of tydsbepaling). Die
volgende is ’n voorbeeld van ’n fideicommissum conditionale:
“Ek bemaak my plaas aan my vrou. Indien sy weer trou, moet die plaas na my seun gaan.”
Hier het ons met ’n voorwaarde te make, aangesien die moontlikheid dat die testateur se vrou
weer sal trou, ’n onseker gebeurtenis in die toekoms is. Met ander woorde, die tweede
begunstigde, die fideicommissarius, kan nie seker weet of hy ooit die eienaar van die eiendom
sal word nie. Dit sal afhang daarvan of die fiduciarius (die vrou) se eiendomsreg beëindig word
deur die nakoming van die fideikommissêre voorwaarde. Nóg dies cedit nóg dies venit breek
aan vir die fideicommissarius totdat hierdie voorwaarde volvoer word. Terselfdertyd het die
fiduciarius eiendomsreg, wat voortduur, tensy die voorwaarde volvoer word. Met ander woorde,
uit die fiduciarius se oogpunt het sy eiendomsreg onderhewig aan ’n ontbindende of
termynvoorwaarde.
In die meeste gevalle egter, sal ’n fideikommissêre bemaking die volgende vorm aaneem (as
voorbeeld):
“Ek bemaak my plaas aan my seun, Andrew. By sy dood (na myne), moet dit na sy oudste seun
Ben gaan”
Prima facie is daar geen voorwaarde nie aangesien dit seker is dat Andrew sal sterf, maar
alhoewel dit nie onmiddellik duidelik is nie, is hierdie ’n voorwaardelike bemaking. Daar is
naamlik ’n stilswyende voorwaarde van oorlewing; met ander woorde, die fideicommissarius
moet lewend wees as die dag aanbreek dat die fideikommissêre eiendom aan hom of haar
oorhandig moet word. Ben mag die plaas van die testateur erf by Andrew se dood slegs as Ben
nog leef wanneer Andrew sterf. As Ben nie nog leef wanneer Andrew sterf nie, bly Andrew die
eienaar, en by sy dood vorm die plaas deel van sy boedel. As Andrew voor Ben sterf (waar
Andrew die plaas voor Ben se dood geërf het), word Ben die eienaar by Andrew se dood.
Andrew is die fiduciarius; hy is die eienaar, onderhewig aan die ontbindende voorwaarde:
“As ek voor Ben sterf, vorm die plaas nie deel van my boedel nie, maar gaan dit oor op Ben”.
Ben is die fideicommissarius: die bemaking aan hom is onderhewig aan die opskortende
voorwaarde dat “as Andrew voor my sterf, sal ek die eienaar van die plaas word”.
In par 10.4.1.1.2 bespreek ons ’n fideicommissum waar die fiduciarius ’n besondere
benoemingsbevoegdheid verkry. Lees weer Studie-eenheid 8 om u geheue te verfris
aangaande benoemingsbevoegdheid.
In par 10.4.1.1.3 bespreek ons ’n fideicommissum residui. U sal merk dat die fideicommissum
residui ’n uitsondering daarstel op die algemene reël dat die fiduciarius nie die fideikommissêre
eiendom mag vervreem nie. By hierdie tipe fideicommissum mag die fiduciarius ¾ van die
fideikommissêre eiendom tydens sy of haar leeftyd vervreem. Die fideicommissum is slegs van
toepassing oor daardie deel van die eiendom wat die fiduciarius onverbruik en onvervreem laat.
Soms word ’n fideicommissum in ’n testament ingelees al het die testateur dit nie uitdruklik
bepaal nie. Dit staan bekend as ’n stilswyende of geïmpliseerde fideicommissum en word in par
55
10.4.1.2 bespreek. ’n Stilswyende fideicommissum kan geskep word deur die invoeg van ’n si
sine liberis decesserit-klousule in ’n testament (sien par 10.4.1.2.1 en 10.4.1.2.2). Bestudeer Du
Plessis v Strauss 1988 (2) SA 105 (A) saam met hierdie paragrawe.
5 Par 10.5 STATUTÊRE BEPERKING VAN DIE FIDEICOMMISSUM
Dit is moontlik om ’n fideicommissum tot in ewigheid in te stel. Dus kan ’n testateur byvoorbeeld
bepaal: “Ek bemaak my plaas aan my seun. As hy sterf, moet dit na sy oudste seun gaan. As
laasgenoemde sterf, moet dit na sy oudste seun gaan, ensovoorts, vir ewig.”
Tot die inwerkingtreding van die Wet op die Opheffing of Wysiging van Beperkinge op
Onroerende Goed 94 van 1965 sou hierdie tipe bemaking heeltemal geldig en bindend gewees
het. Die situasie is egter radikaal verander deur Wet 94 van 1965, wat in werklikheid alle
fideicommissa op onroerende goed beperk tot ’n maksimum van twee substitute nadat die
oorspronklike fiduciarius die eienaar geword het. Let daarop dat hierdie Wet slegs geld ten
aansien van onroerende eiendom (grond) en nie ten aansien van roerende eiendom (bv ’n
motor, juwele of ’n klavier) nie. ’n Testateur mag dus juwele aan sy vrou bemaak en ’n
verpligting op haar plaas om dit na haar dogter te laat gaan, wat dit weer na haar dogter moet
laat gaan, wat dit weer na háár dogter ensovoorts, vir ewig en ewig moet laat gaan.
6 Par 10.6 REGSPOSISIE VAN DIE PARTYE BY ’N FIDEICOMMISSUM
Bestudeer die regsposisie van die partye in Tabel 10.2. Die regsposisie van die betrokke partye
kan alleenlik verstaan word as die aard van die bemaking in gedagte gehou word: daar is ’n
opeenvolging van eienaars en eiendomsreg is voorwaardelik. Die eerste eienaar (fiduciarius)
mag nie die eiendom vervreem of vernietig nie; die tweede eienaar (fideicommissarius) het nie
’n gevestigde reg om te erf terwyl die fiduciarius nog leef nie, aangesien hy of sy die fiduciarius
moet oorleef voordat vestiging kan plaasvind.
7 Par 10.7 VERMOEDE TEEN ’N FIDEICOMMISSUM
HOFSAAK: Bestudeer
Van Zyl v Van Zyl 1951 (3) SA 288 (A)
Die aard van fideicommissa is lasgewend aangesien hulle die eiendomsreg van die fiduciarius
en dié van alle fideicommissarii, behalwe dié van die laaste een, aan bande lê. Ons gemenereg
is nie ten gunste van fideicommissa nie omdat gereken word dat dit onnodige laste lê op die
begunstigdes van ’n testateur. ’n Vermoede het dus teen fideikommissêre substitusie ontwikkel,
maar hierdie vermoede bestaan alleenlik waar daar twyfel is oor die vraag of ’n testateur direkte
of fideikommissêre substitusie beoog het. Dit bestaan nie waar daar twyfel bestaan oor die
vraag of die testateur ’n fideicommissum of ’n vruggebruik beoog het nie, aangesien beide ewe
lasgewend is op begunstigdes (sien hieronder). Bestudeer Van Zyl v Van Zyl 1951 (3) SA 288
(A) oor hierdie onderwerp.
8 Par 10.8 VRUGGEBRUIK
Erratum: Let op die volgende:
Op p186 in J&R, in die kassie met die opskrif “Terminologie” verskyn ‘n definisie van
“vruggebruik”. Die definisie moet soos volg lees:
“'n Vruggebruik kom voor wanneer eiendomsreg aan een persoon nagelaat word, maar waar
die reg om dit te gebruik, te geniet en die vrugte daarvan te gebruik aan iemand anders bemaak
56
PVL2602/501

word. Laasgenoemde word die vruggebruiker genoem en die eienaar word die dominus of blote
eienaar genoem.” (Die woord fideicommissarius moet dus deurgehaal word.)
Vruggebruik is ’n persoonlike serwituut (dws, ’n beperkte saaklike reg) en kom voor wanneer ’n
testateur eiendomsreg van ’n saak aan een persoon bemaak (die dominus), en die reg om die
saak en die vrugte daarvan te gebruik en die saak te geniet, aan iemand anders (die
vruggebruiker). ’n Maklike voorbeeld is:
“Ek bemaak my plaas aan my seun. My vrou kry egter lewenslange vruggebruik van die plaas.”
In hierdie geval kry die seun ’n gevestigde reg op die plaas (dies cedit) – hy verkry
eiendomsreg. Hy mag egter nie die plaas “geniet” nie − dies venit is uitgestel – totdat die
testateur se vrou sterf. As die seun sterf terwyl die testateur se vrou nog leef, gaan die
eiendomsreg in die plaas oor na die seun se erfgename. Die seun se eiendomsreg is
onvoorwaardelik, alhoewel dit blote of naakte eiendomsreg is – “ontbloot” van die reg op
genieting – nudum dominium.
Vir die testateur se vrou vind dies cedit en dies venit ten aansien van die beperkte saaklike reg
plaas by die dood van die testateur. Sy kry ’n gevestigde reg in die plaas (al behoort dit aan
iemand anders – eiendomsreg setel in iemand anders) en sy kry ook die reg om die vrugte te
gebruik en die plaas te geniet tot haar dood.
Bestudeer par 10.8.1 “Invloed op dies cedit en dies venit” aandagtig. Bestudeer ook par 10.8.2
waar ons die verskil tussen vruggebruik en ’n fideicommissum bespreek. Onthou dat die
vruggebruiker, in teenstelling tot die fideicommissarius, nooit eiendomsreg ten aansien van die
betrokke eiendom verkry nie.
9 Par 10.9 GEMEENREGTELIKE AANWAS
HOFSAAK: Bestudeer
Lello v Dales 1971 (2) SA 330 (A)
Die gemeenregtelike reg op aanwas (ius accrescendi of accrual) is die reg wat ’n erfgenaam het
om die nagelate voordele te erf wat ’n mede-erfgenaam of mede-legataris weier of onbevoeg is
om te erf. ’n Maklike voorbeeld is:
“Ek bemaak my plaas aan Alice en Bonita.”
As Alice voor die testateur sterf, erf Bonita die plaas, tensy ’n teenoorgestelde bedoeling uit die
testament blyk. Alice se deel van die plaas was dus aan by Bonita.
Bestudeer par 10.9 baie deeglik. Let op die spesifieke omstandighede waaronder aanwas van
toepassing kan wees. Let ook op dat substitusie (beide uitdruklik en geïmpliseerd) die
toepassing van die reg op aanwas uitsluit. (Sien par 10.3 hierbo in hierdie verband.)
Met ander woorde, as die testateur bepaal het dat ’n substituut moet erf as die eerste
begunstigde nie bevoeg is om te erf nie, of as substitusie regtens geïmpliseer word, kan
aanwas nie onder die mede-begunstigdes plaasvind nie; die substituut sal dan erf. Bestudeer
die voorbeelde in par 10.9. Let ook op wat met die voordeel sal gebeur as die reg op aanwas
nie in werking tree nie.
Bestudeer 10.9.1 en let daarop dat die eerste vraag altyd moet wees of die testateur bedoel het
dat aanwas moet plaasvind. As die testateur nie sy of haar bedoeling duidelik gemaak het nie,
moet die reg besluit of aanwas moet plaasvind, aldan nie. Om dit te kan doen, steun die reg op
57
sekere riglyne of aanduidings (in die bewoording van die testament of op grond van relevante
omstandighede) om in elke geval te probeer bepaal wat die testateur se moontlike bedoeling
was of kon gewees het as hy of sy oor die probleem nagedink het. Hierdie riglyne word in par
10.9.2 bespreek en u moet hulle bestudeer. Ons moet beklemtoon dat hierdie riglyne bloot kan
dien as aanduiding van die moontlike bedoeling van die testateur – hulle is nie absolute reëls
wat uitdruklik bepaal dat of aanwas moet plaasvind nie.
Let daarop dat die belangrikste aanduiding die bewoording is wat die testateur gebruik het by
die benoeming van die begunstigdes in die testament. As die testateur die bemakings aan
verskillende begunstigdes op die een of ander wyse saamgevoeg het, kan die wyse waarop die
belange saamgevoeg is aandui of die testateur bedoel het dat aanwas moet plaasvind. Daar is
drie moontlike maniere waarop bemakings saamgevoeg kan word, te wete samevoeging re,
samevoeging re et verbis en samevoeging verbis tantum.
Bestudeer die uitwerking van hierdie samevoegings op die reg van aanwas in par 10.9.2.
Bestudeer ook Lello v Dales 1971 (2) SA 330 (A) saam hiermee.

AKTIWITEIT
Kort scenario (1):
(1) Die volgende bepalings verskyn in drie verskillende testamente:
(1.1) “Ek bemaak die restant van my boedel aan my vrou en kinders in gelyke dele.” Seun
Abraham (’n volwassene) repudieer sy voordeel. Abraham het ’n seun, Izak.
(1.2) “Ek bemaak my huis aan my seun Abraham en my vrou Venetia.” Abraham (’n
volwassene) is onbevoeg om te erf. Abraham het ’n seun, Izak.
(1.3) “Ek bemaak R10 000 aan my seun Abraham en R10 000 aan my vrou Venetia.” Abraham
(’n volwassene) repudieer sy voordeel. Abraham het ’n seun, Izak.
Wat u moet doen: Bespreek die vererwing van die testateur se bates ten aansien van elk van
die bepalings.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Artikel 2C(1) en (2) van die Wet op Testamente is
relevant by hierdie antwoorde. Bestudeer hierdie artikels aandagtig om hierdie vrae te kan
beantwoord en dui in elke geval aan watter subartikel van toepassing is. Gee redes vir u
antwoorde.
Kort scenario (2):
’n Klousule in ’n testament bepaal soos volg:
“Ek bemaak my huis aan my seun Xanor. Indien hy sonder kinders sterf, moet die huis na my
dogter Yolandi gaan.”
Wat u moet doen: Bespreek die vraag of ’n fideicommissum geskep word ten gunste van
Xanor se kinders (as hy sou hê). Verwys na hofbeslissings.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Bestudeer die beslissing in Du Plessis v Strauss 1988
(2) SA 105 (A) en die bespreking van die si sine liberis-klousule in Hoofstuk 10. Gee ’n kort
opsomming van die feite en bespreek die beslissing.

58
PVL2602/501

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons die inhoud van ’n testament verder bespreek en die klem laat
val op direkte substitusie en fideikommissêre substitusie, vruggebruik en aanwas.
In die volgende studie-eenheid gaan ons voort met die bespreking van die inhoud van ’n
testament met die klem op trusts

59
STUDIE-EENHEID 11: INHOUD VANTESTAMENTE– TRUSTS
OORSIG
In die vorige hoofstukke het ons sekere regsfigure bestudeer wat in testamente kan voorkom,
soos voorwaardes, fideicommissa en vruggebruik. In hierdie hoofstuk gaan ons trusts
bestudeer, wat aansienlik verskil van die figure wat ons tot dusver bestudeer het. Een rede vir
die verskil is die feit dat die trust in die Germaanse reg ontstaan het maar in die Engelse reg
heelwat wysigings ondergaan het voordat dit in ons reg geresipieer is. ’n Ander rede is dat
trusts deur wetgewing gereguleer word, in teenstelling met die ander figure wat deur die
gemenereg gereguleer word. Gevolglik is die beginsels van toepassing op trusts vasgelê en kan
ons hulle in die relevante wetgewing bestudeer. U sal sien dat die klem in hierdie studie-
eenheid verskuif het: waar u voorheen ’n regsfiguur moes kon identifiseer en sy werking moes
leer verstaan, moet u hier die beginsels onderliggend aan trusts en die regte en verpligtinge van
die partye betrokke by ’n trust onder die knie kry. Die rede hiervoor is dat dit maklik is om ’n
trust in ’n testament te identifiseer en dat die relevante wetgewing bloot toegepas moet word
wanneer die trust geadministreer word.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) die volgende konsepte te kan definieer:
(a) Treuhand
(b) ’n trust mortis causa
(c) ’n trust inter vivos
(d) ’n bewindtrust
(e) ’n trust soos omskryf in die Wet op die Beheer oor Trustgoed 57 van 1988
(f) ’n trust vir ’n onpersoonlike doel
(2) te kan aandui waar trusts ontstaan het
(3) die regsaard van ’n testamentêre trust te kan bespreek met verwysing na Braun v Blann
and Botha 1984 (2) SA 850 (A)
(4) die verskille tussen ’n trustee en ’n fiduciarius te kan verduidelik
(5) met verwysing na regspraak te kan verduidelik of ’n trust ’n regspersoon is
(6) die anomalieë te kan noem waar trusts hanteer word as regspersone in wetgewing of
deur die howe, al het ’n trust nie regspersoonlikheid nie
(7) die vereistes vir oprigting van ’n geldige trust te kan bespreek
(8) te kan verduidelik wanneer ’n testateur sy of haar testamentêre bevoegdheid
(benoemingsbevoegdheid) aan ’n trustee van ’n testamentêre trust kan oordra
(9) ’n aantekening te kan skryf, met verwysing na Minister of Education v Syfrets Trust Ltd
2006 (4) SA 205 (K), oor die impak van die Grondwet op testeervryheid wanneer ’n
testamentêre trust opgerig word

60
PVL2602/501

(10) die kernelemente van ’n trust te kan identifiseer en bespreek


(11) die benoeming en aanstelling van trustees te kan bespreek
(12) te kan aandui wanneer die Meester ’n trustee sal aanstel
(13) die verpligtinge van trustees te kan bespreek
(14) ’n aantekening te kan skryf oor die verbreking van die fidusiêre plig van ’n trustee
(15) die bevoegdhede van ’n trustee te kan verduidelik
(16) te kan verduidelik hoe en wanneer ’n trustee se dienste beëindig mag word
(17) die benoeming en kwalifikasies van ’n trustbevoordeelde te kan bespreek
(18) die regte van die verskillende tipes trustbevoordeeldes te kan bespreek
(19) wysiging of verandering van trustbepalings deur ’n hof te kan verduidelik
(20) te kan verduidelik hoe ’n trust beëindig kan word

STUDIEMATERIAAL
HOOFSTUK 11: INHOUD VAN TESTAMENTE – TRUSTS
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 11.1−11.2 (pp195−197)

 Par 11.3: Bestudeer p198 insluitend Figuur 11.1.•


–– Ignoreer p199 en die eerste drie paragrawe op p200 (tot net voor die “Dink Na”-blok).
Bestudeer voorts:

 Die “Dink Na”-blok op p200

 Par 11.4−11.10 (pp200−218)


–– Lees par 11.11 (p218)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 11.1 INLEIDING
In hierdie paragraaf onderskei ons tussen ’n testamentêre trust (trust mortis causa) en ’n trust
wat tydens die leeftyd van die oprigter van die trust (trust inter vivos) opgerig is. Ons gee ook
voorbeelde van hoe ’n testateur ’n trust kan gebruik tot voordeel van die trustbevoordeeldes.
Laastens verduidelik ons die treuhand-beginsel – die basiese idee agter ’n trust, en ’n baie
belangrike beginsel wat u moet verstaan.

61
2 Par 11.2 BONDIGE HISTORIESE OORSIG
In hierdie paragraaf verduidelik ons die oorsprong en ontwikkeling van trustreg vanuit ’n
historiese perspektief.
3 Par 11.3 OMSKRYWING VAN ’N TRUST
’n Trust kan in ’n eng en wye sin verstaan word. Figuur 11.1 verduidelik in tabelvorm die verskil
tussen die twee. In hierdie module gaan dit om ’n trust in die eng sin en meer in die besonder
oor ’n trust wat in ’n testament geskep word (trust mortis causa). ’n Testamentêre trust kan twee
vorme aanneem, naamlik ’n bewindtrust en ’n eiendomstrust, wat die algemeenste vorm van ’n
testamentêre trust is – hier setel die eiendomsreg van die trusteiendom in die trustee. By ’n
bewindtrust ontvang die bevoordeelde eiendomsreg in die trusteiendom en die trustee
administreer of beheer bloot die trusteiendom. U sal merk dat die eiendomstrust verder
onderverdeel word in ’n diskresionêre trust, waar die trustee die diskresie het om die
bevoordeeldes aan te wys uit ’n sekere groep, en ’n nie-diskresionêre trust, waar die
bevoordeeldes en hulle onderskeie voordele in die trustinstrument (die testament) bepaal word.
4 Par 11.4 REGSAARD VAN DIE TESTAMENTÊRE TRUST
HOFSAAK: Bestudeer
Braun v Blann and Botha 1984 (2) SA 850 (A)
In hierdie paragraaf verduidelik ons dat alhoewel ’n trust fidusiêr van aard is in die sin dat die
trustee ’n fidusiêre plig teenoor die bevoordeeldes het, is dit nie ’n fideicomissum nie maar ’n sui
generis-regsfiguur. Dit is ’n afsonderlike regsfiguur met sy eie stel reëls. Bestudeer die verskil
tussen ’n trustee en ’n
fiduciarius in Tabel 11.1 (op p201). ’n Trust is ook nie ’n regspersoon nie, alhoewel dit soms as
sodanig deur die wetgewer en selfs in regspraak hanteer word. Bestudeer Braun v Blann and
Botha 1984 (2) SA 850 (A) in hierdie verband. Bestudeer ook die anomalieë wat De Waal 1993
THRHR 1 noem oor die situasie waar trusts as regspersone hanteer word in wetgewing of deur
die howe, selfs al het ’n trust nie regspersoonlikheid nie (sien die “Kontrasteer”-blok op p201).
5 Par 11.5 VEREISTES (OF ESSENTIALIA) VIR DIE OPRIGTING VAN ’N GELDIGE
TRUST
HOFSAKE: Bestudeer
Braun v Blann and Botha 1984 (2) SA 850 (A)
Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K)
Bestudeer die vereistes vir die oprigting van ’n trust met groot aandag. U sal opmerk dat daar
ses vereistes is:
(1) Die trustoprigter (testateur) moet die bedoeling hê om ’n trust op te rig.
(2) Die bedoeling moet uitgedruk word op ’n wyse wat ’n bindende verpligting skep –
versoekende woorde is nie voldoende nie.
(3) Daar moet voldoen word aan die formaliteite vir ’n geldige testament aangesien die trust
mortis causa in ’n testament opgerig word.

62
PVL2602/501

(4) Die trusteiendom moet duidelik geïdentifiseer word.


(5) Die trustdoel of -oogmerk moet duidelik wees.
(6) Die trustdoel moet regmatig wees.
Wat betref die vereiste dat die trustdoel duidelik moet wees, bestudeer Braun v Blann and
Botha 1984 (2) SA 850 (A) waar die hof bevind het dat ’n spesiale benoemingsbevoegdheid aan
’n trustee verleen mag word.
Wat betref die vereiste dat die trustdoel regmatig moet wees, bestudeer Minister of Education v
Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K). Dit word in par 8.2.2 bespreek.
6 Par 11.6 KERNELEMENTE VAN ’N TRUST
In hierdie paragraaf bespreek ons die elemente van ’n trust wat die ware aard en kenmerke van
die trust verduidelik. Bestudeer hulle deeglik.
7 Par 11.7 TRUSTEES
In par 11.7.1 bespreek ons die aanstelling en magtiging van trustees. In par 11.7.2 word hulle
verpligtinge en in par 11.7.3 verbreking van die fidusiêre plig verduidelik. Par 11.7.4 handel oor
die bevoegdhede van die trustee en par 11.7.3 oor die beëindiging van trusteeskap. Die leerstof
is selfverklarend en moet deeglik bestudeer word.
8 Par 11.8 BEVOORDEELDES
In par 11.8 word die bevoordeeldes bespreek. Hulle benoeming en kwalifikasies (par 11.8.1) en
hulle regte (par 11.8.2) kom daarna aan die beurt. Weer eens is inhoud hier selfverklarend en u
moet dit goed ken.
9 Par 11.9 WYSIGING VAN TRUSTBEPALINGS
HOFSAAK: Bestudeer
Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K)
Die hof het ’n beperkte bevoegdheid om trustbepalings te wysig. Dit kan kragtens die
gemenereg trustbepalings slegs in baie beperkte omstandighede wysig (par 11.9.1). Bestudeer
ook Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K) en sien weer par 11.5 en par
8.2.2.
Die hof mag ook trustbepalings kragtens artikel 13 van die Wet op die Beheer oor Trustgoed 57
van 1988 wysig, met dien verstande dat die omstandighede binne die spesifieke bepalings van
die artikel val (par 11.9.2).
Die vraag of ’n trustoprigter aan ’n trustee die bevoegdheid mag verleen om die bepalings van
’n trust te wysig, word in par 11.9.3 bespreek.
10 Par 11.10 BEËINDIGING VAN ’N TRUST
Bestudeer die faktore wat kan lei tot die beëindiging van ’n trust.

63
AKTIWITEIT
Kort scenario (1):
(1.1) “Ek bemaak hiermee R20 000 aan my trustee, mnr Xanadu. Die inkomstebevoordeelde is
my vrou Vinny tydens haar lewe. By haar dood kan mnr Xanadu besluit wie die
kapitaalbevoordeeldes moet wees.”
(1.2) “Ek bemaak hiermee R100 000 aan my trustee mnr Xanadu. Die inkomstebevoordeelde is
my vrou Vinny tot haar dood. By haar afsterwe, magtig ek mnr Xanadu om ’n nuwe trust op te
rig kragtens bepalings en met sodanige konstitusie, en vir so lank, as wat hy goed ag.”

Wat u moet doen: Bespreek die geldigheid al dan nie van bogenoemde klousules in ’n
testament.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Die vraag handel oor delegering van testamentêre
bevoegdheid. Bespreek Braun v Blann and Botha 1984 (2) SA 850 (A).
Kort scenario (2):
(2.1) “Ek bemaak die restant van my bates in ’n trust aan my trustee, mnr Xanadu. Dit moet
aangewend word as beursfonds vir behoeftige wit vroulike verpleegstudente.”
(2.2) “Ek bemaak R100 000 aan my trustee, mnr Xanadu, in ’n trust om aangewend te word as
beursfonds om kinders van ABC Geloof in staat te stel om ’n ABC Dagskool by te woon.”
Wat u moet doen: Bespreek die geldigheid al dan nie van bogenoemde klousules in ’n
testament.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Bespreek die beslissing en belang van Minister of
Education v Syfrets Trust Ltd 2006 (4) SA 205 (K).

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons ’n trust (die testamentêre trust of trust mortis causa) bespreek
as regsfiguur in die konteks van die erfreg. Ons het gesien dat ’n trust sy eie stel reëls het en
dat trusts gereël word deur die Wet op die Beheer oor Trustgoed 57 van 1988. Dit bring ons aan
die einde van die bespreking oor die inhoud van testamente.
In die volgende studie-eenheid bespreek ons die gemeenregtelike konsep “inbring”.

64
PVL2602/501

STUDIE-EENHEID 12: INBRING


OORSIG
In die vorige drie studie-eenhede het ons die inhoud van testamente bestudeer. In hierdie
studie-eenheid gaan ons kyk na ’n beginsel wat relevant kan wees wanneer ’n eksekuteur ’n
boedel beredder (bereddering word in Studie-eenheid 16 bespreek). Die beginsel is inbring.
Volgens hierdie beginsel moet ’n eksekuteur van ’n boedel onder sekere omstandighede
voordele wat die oorledene tydens sy of haar leeftyd aan sekere erfgename gegee het, in
berekening bring wanneer die boedel onder sekere bevoordeeldes verdeel word.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) inbring te kan verduidelik
(2) te kan aandui wie moet inbring
(3) te weet wie geregtig is op inbring
(4) te kan verduidelik watter voordele ingebring moet word

STUDIEMATERIAAL
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 12.1–12.3 (pp221−229 voor par 12.4)


–– Ignoreer par 12.4–12.5 (pp229–233)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 12.1 INLEIDING
Lees par 12.1. U moet slegs die paragraaf in die middel van bladsy 222 ken, wat begin met die
woorde: “Die onderliggende rede vir die bestaan van inbring”… tot by “skema wat die oorledene
vir die beskikking oor sy of haar boedel onder sy of haar erfgename ontwerp het, deur inbring
bewaar.” Ons verwag nie van u om ’n inbring-berekening te kan doen nie (sien pp223), maar
werk ten minste een keer deur die voorbeeld sodat u verstaan hoe dit werk en wat inbring
behels.
2 Par 12.2 WIE MOET INBRING?
Inbring is gebaseer op die aanname dat ouers hulle kinders gelykwaardig wil behandel as dit
kom by erfopvolging. Wie moet dus inbring? Die basiese reël is dat die verpligting om in te bring
rus op die oorledene se afstammelinge as hulle erfgename is van die oorledene, hetsy testaat
of intestaat, met dien verstande dat testate erfgename verplig is om in te bring slegs indien hulle
ab intestato van die oorledene sou geërf het as hy of sy intestaat sou gesterf het.
Wie mag voordeel trek uit inbring? Die enigste persone wat inbring mag afdwing is
afstammelinge wat self verplig is om in te bring.

65
Bestudeer par 12.2 en maak seker dat u die voorbeelde verstaan.
3 Par 12.3 WATTER VOORDELE IS VIR INBRING VATBAAR?
Bestudeer die voorbeelde van voordele wat geïdentifiseer is as vatbaar vir inbring en dié wat
nie is nie.

AKTIWITEIT
Tsepo het in 2004 gesterf en sy totale boedel in gelyke dele nagelaat aan sy seun John, sy
dogter Sally en sy suster Paula. Tydens sy leeftyd het Tsepo R20 000 aan John gegee om ’n
rekenaarbesigheid te begin. Tsepo se suster Paula voel dat sy nie ’n billike deel van die boedel
kry nie.
Wat u moet doen: Bespreek die posisie ten aansien van inbring aan die hand van hierdie feite.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: U moet bepaal wie verplig is om in te bring, en wat
ingebring moet word. In hierdie boedel is John, Sally en Paula erfgename van die boedel omdat
die totale boedel in gelyke dele aan hulle nagelaat is. Die oorledene se afstammelinge, indien
hulle erfgename is, is verplig om in te bring, met dien verstande dat testate erfgename verplig is
om in te bring alleenlik indien hulle ab intestato van die oorledene sou geërf het indien
laasgenoemde intestaat sou gesterf het. John is dus verplig om in te bring, aangesien hy ’n
voordeel ontvang het ter bevordering van sy beroep of besigheid (een van die voordele van
ingebring moet word). Die enigste persone wat egter op inbring geregtig is, is afstammelinge
wat self ’n plig om in te bring het. Paula, Tsepo se suster, is nie ’n afstammeling nie en dus het
sy nie ’n plig om in te bring nie en ook geen reg om aan te dring op inbring nie. Die enigste
persoon wat daarop mag aandring dat John die R20 000 wat hy tydens Tsepo se lewe ontvang
het moet inbring, is Sally.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons inbring bespreek. Dit is ’n beginsel wat toegepas word
wanneer ’n boedel verdeel word. In die volgende studie-eenheid kyk ons hoe ’n testament
geïnterpreteer moet word.

66
PVL2602/501

STUDIE-EENHEID 13: UITLEG VAN TESTAMENTE


OORSIG
In hierdie studie-eenheid gaan ons leer hoe testamente geïnterpreteer word. Soos ons reeds
gesien het, is ’n testament ’n eensydige regshandeling wat die testateur se verklaring van sy of
haar bedoeling bevat. Na die testateur se dood kan dit nodig word om die testament te
interpreteer as die testateur nie sy of haar bedoeling duidelik uitgedruk het nie. Die probleem is
dat die testateur nie meer self beskikbaar is om te verduidelik wat presies die bedoeling was
nie. Dit is dan die hof se taak om die testament uit te lê om te bepaal wat die testateur se
bedoeling was soos uitgedruk in die bewoording van die testament.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) die goue reël vir uitleg van testamente te kan weergee
(2) die statutêre uitlegreëls wat relevant is by uitleg van testamente, te kan bespreek
(3) die gemeenregtelike uitlegreëls wat die hof toepas by uitleg van testamente te kan bespreek
(4) die verskil tussen leunstoelgetuienis en ekstrinsieke getuienis te kan verduidelik
(5) te kan verduidelik wanneer ’n bepaling in ’n testament ingelees kan word
(6) die regsvermoedens wat ’n hof kan aanwend by uitleg van ’n testament te kan weergee
(7) wysiging van testamente te kan bespreek
(8) rektifikasie van testamente te kan verduidelik

STUDIEMATERIAAL
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 13.1–13.6 (pp235–256)


–– Ignoreer par 13.7 (p256 - 257)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 13.1 INLEIDING
Lees die inleidende paragraaf aandagtig.
2 Par 13.2 GOUE REËL
In hierdie paragraaf verduidelik ons die goue reël wat gevolg moet word by uitleg van ’n
testament, asook wanneer van die reël afgewyk kan word.
3 Par 13.3 STATUTÊRE UITLEGREËLS
Die Wysigingswet op die Erfreg 43 van 1992 het ’n paar uitlegreëls ingesluit by die Wet op
Testamente. Hierdie reëls is vervat in artikels 2B en 2D. Artikel 2B moet noukeurig bestudeer
67
word. Die uitwerking daarvan is dat as ’n persoon binne drie maande nadat sy of haar huwelik
deur egskeiding of nietigverklaring beëindig is, sterf, die vorige gade wat ’n bevoordeelde in sy
of haar testament is, uitgesluit word van enige erflating kragtens die testament.
Hierdie uitsluiting is net vir ’n tydperk van drie maande. Die rede vir die invoeging van hierdie
bepaling is dat ’n testateur ’n tydperk van grasie moet hê na ’n egskeiding of onbinding van die
huwelik, waarin hy of sy die testament kan verander en die voormalige gade as bevoordeelde
daaruit kan verwyder. As die testament nie binne drie maande gewysig word nie, is die vorige
gade geregtig daarop om uit die boedel te erf indien die testateur ná die drie maande te sterwe
kom.
Bestudeer ook artikel 2D. Die uitwerking van artikel 2D(1)(a) en (b) is om enige onderskeid
tussen biologiese, aangenome en buite-egtelike kinders uit te wis. Artikel 2D(1)(c) handel oor
bemakings aan ’n klas bevoordeeldes en ongebore kinders. Bestudeer dit deeglik.
4 Par 13.4 GEMEENREGTELIKE UITLEGREËLS
In par 13.4.1–13.4.5 word die beginsels onderliggend aan die uitleg van ’n testament bespreek.
Leer hulle van buite. Maak seker dat u weet wat leunstoelgetuienis en ekstrinsieke getuienis is
en hoe hulle verskil. U moet ook weet wanneer elke tipe getuienis gebruik word om ’n testament
te interpreteer.
Leer die regsvermoedens wat toegepas word wanneer ’n testament uitgelê word.
5 Par 13.5 WYSIGING VAN TESTAMENTE
In die algemeen mag ’n hof nie die bepalings van ’n testament wysig nie en moet dit bloot
uitvoering gee aan die bedoeling van die testateur. In die verlede het ons howe egter wysiging
van testamente in spesifieke omstandighede wat in hierdie paragraaf uiteengesit word,
toegelaat.
6 Par 13.6 REKTIFIKASIE VAN TESTAMENTE
HOFSAAK: Bestudeer
Rens v Esselen 1957 (4) SA 8 (T)
Rektifikasie van ’n testament moet nie verwar word met wysiging daarvan nie. As ’n testament
gerektifiseer word, word ’n fout deur die hof gekorrigeer. Daar word ’n onderskeid getref tussen
drie tipes rektifikasie: korreksie van klerklike foute, invoeging van woorde wat per ongeluk
uitgelaat is en skrapping van woorde wat per ongeluk ingevoeg is. U moet weet wat bewys
moet word voordat rektifikasie toegelaat sal word.

AKTIWITEIT
Skryf ’n aantekening waarin u die verskil tussen wysiging en rektifikasie van testamente
bespreek. Verwys na regspraak.
Wat u moet doen: Bestudeer die beginsels ten aansien van rektifikasie en wysiging aandagtig.
Enkele riglyne voordat u begin skryf: Onthou dat slegs ’n hof ’n testament kan rektifiseer en
dat sekere formaliteite nagekom moet word voordat wysiging kan plaasvind. Bespreek ook
Rens v Esselen 1957 (4) SA 8 (T).

68
PVL2602/501

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid is uitleg en rektifikasie van testamente bespreek. In die volgende
studie-eenheid word kontraktuele erfopvolging, met ander woorde erfopvolging deur middel van
’n meersydige regshandeling, bespreek.

69
STUDIE-EENHEID 14: KONTRAKTUELE ERFOPVOLGING
OORSIG
In die vorige studie-eenheid het ons uitleg van testamente bespreek. In hierdie studie-eenheid
gaan ons kyk na erfopvolging kragtens ’n ooreenkoms of kontrak. So ’n kontrak staan bekend
as ’n pactum successorium.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) ’n pactum successorium te kan identifiseer
(2) te kan verduidelik hoekom pacta successoria normaalweg nie in ons reg toegelaat word nie

(3) die tipes pacta succesoria wat in ons reg toegelaat word, te kan noem

STUDIEMATERIAAL
Bestudeer die volgende uit J&R:
U hoef hierdie hoofstuk slegs baie aandagtig te LEES vir werkopdragdoeleindes. U hoef dit nie
vir die eksamen te bestudeer nie, maar u moet wel die inhoud van hierdie gids in dié verband
ken. Lees die volgende:

 Par 14.1–14.3 (pp259–269).


–– Ignoreer par 14.4 (p269 – bo-aan 270).

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


Vir die eksamen hoef u slegs die volgende te weet oor kontraktuele erfopvolging:
Ten aansien van kontraktuele erfopvolging moet mens onderskei tussen twee tipes kontrakte, te
wete ’n pactum successorium en ’n donatio mortis causa.
(a) Pactum successorium: ’n Pactum successorium is ’n ooreenkoms tussen twee partye waarin
gepoog word om die vererwing van die boedel (of gedeelte daarvan) van een of albei die partye
na die dood van daardie party te reguleer. Normaalweg is pacta successoria in ons reg
ongeldig, om twee redes:
(1) Hulle beperk ’n persoon se testeervryheid.
(2) Hulle omseil die formaliteitsvereistes vir testamente.
Sien Borman en De Vos v Potgietersrusse Tabakkorporasie Bpk 1976 (3) SA 488 (A).
’n Uitsondering is dat ’n pactum successorium in ’n voorhuwelikse kontrak wel toegelaat word
(sien Ex parte Executors Estate Everard 1938 TPA 190).
(b) Donatio mortis causa: ’n Donatio mortis causa is ’n skenking wat gemaak word met die oog
op die dood van die skenker. Sodanige skenking is geldig in ons reg aangesien dit nie die
skenker se testeervryheid beperk nie omdat dit altyd voor die skenker se dood herroep kan
70
PVL2602/501

word. Dit moet egter verly word met dieselfde formaliteite as wat vereis word vir ’n geldige
testament ten einde geldig te wees.

AKTIWITEIT
Lees Hoofstuk 14 en maak seker dat u verstaan wat ’n pactum successorium is.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid is kontraktuele erfopvolging kortliks bespreek. Die volgende studie-
eenheid handel oor die gewoontereg en die RCLSA.

71
STUDIE-EENHEID 15: GEWOONTEREG EN DIE REFORM OF THE
CUSTOMARY LAW OF SUCCESSION ACT (RCLSA)
OORSIG
In die vorige studie-eenhede het ons beide testate en intestate erfreg bestudeer en ook gesien
dat gewoontereg erken word. In hierdie studie-eenheid die Reform of the Customary Law of
Succession Act 11 van 2009 of RCLSA wat op 20 September 2010 in werking getree het, van
nader bekyk.

STUDIEMATERIAAL
Ons verwag slegs van u om ‘n oorsig van die RCLSA te hê. Die belangrikste uitkomste van
hierdie wet is dat enige iemand ‘n testament mag maak, ongeag van die stelsel waaronder hy of
sy leef en dat intestate vererwing plaasvind ingevolge die Wet op Intestate Erfreg 81 van 1987
(bestudeer weer hoofstuk Chapter 2).
U hoef dus nie hoofstuk 15 te bestudeer nie. Lees egter aandagtig daardeur ten einde ’n
oorsig van die RCLSA te vorm.

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid is die gewoontereg en die RCLSA bestudeer. In die volgende (en
laaste) studie-eenheid gaan ons boedelbereddering bestudeer.

72
PVL2602/501

STUDIE-EENHEID 16: BOEDELBEREDDERING


OORSIG
In die vorige studie-eenhede het ons die reg ten aansien van testate en intestate erfopvolging
bestudeer en ons het geleer hoe om ’n testament te verly en te interpreteer. Ons het ook
kortliks gekyk na kontraktuele erfopvolging. In hierdie laaste studie-eenheid gaan ons kyk wat
gebeur nadat die testateur gesterf het. Met ander woorde, ons gaan kortliks kyk hoe die
bestorwe boedel beredder word, ongeag of die persoon testaat of intestaat gesterf het. U moet
ook weer Studie-eenheid 12 oor inbring bestudeer, aangesien dit van toepassing kan wees
wanneer ’n boedel beredder word.
Die doel van hierdie studie-eenheid is om u in staat te stel om
(1) die basiese prosedure vir bereddering van ’n boedel te kan verduidelik
(2) die verpligtinge van die eksekuteur by bereddering van die boedel te kan uiteensit

STUDIEMATERIAAL
U hoef slegs ’n basiese kennis te hê van die boedelberedderingsproses en dus verwag ons nie
dat u meer as die eenvormige reëls daarvan moet ken nie.
Bestudeer die volgende uit J&R:

 Par 16.1 (p285): Leer die eerste paragraaf, vanaf “In Suid-Afrika …” tot by “… uit die oog
verloor moet word nie”.
–– Ignoreer die lys wette wat aan die einde van die eerste paragraaf gegee word (pp285–286).

 Leer par 16.1 na hierdie lys wette, vanaf “Die beredderings- of likwidasieproses …“ tot
by “Sedert 2000 het die beredderingsproses van boedels merkbaar verander.”
Verander die laaste sin in par 16.1 om soos volg te lees:
“Tans is die reëls vir boedelbereddering hoofsaaklik eenvormig.”
Skrap die res van die sin.
–– Ignoreer par 16.2 (pp286–293)
Bestudeer ook die volgende:

 Par 16.3 Eenvormige reëls vir bereddering van bestorwe boedels (Inleidende
paragraaf)

 Par 16.3.1 Fundamentele begrippe van boedelbereddering

 Par 16.3.1.1 Boedel

 Par 16.3.1.2 Eksekuteur (Let daarop dat die bedrag van die brutowaarde van die boedel
ingevolge artikel 18(3) nou R250 000 beloop en nie meer slegs R125 000 nie. Wysig dus
die bedrag op p295.)

73
 Par 16.3.1.3 Meester

 Par 16.3.2 Die beredderingsproses (pp297– bo-aan 302)


–– Ignoreer die res van Hoofstuk 16 – vanaf par 16.3.3 (middel van p302−308)

INHOUD VAN HIERDIE STUDIE-EENHEID


1 Par 16.1 INLEIDING
U sal opmerk dat die Boedelwet 66 van 1965 handel oor administrasie van bestorwe boedels en
dit reël. Die partye wat hierby betrokke is, is die eksekuteur, wat die boedel likwideer en
beredder en die Meester van die Hoë Hof, wat oor die proses moet toesig hou.
2 Par 16.3 EENVORMIGE REËLS VIR BEREDDERING VAN BESTORWE BOEDELS
Bestudeer par 16.3.1 wat handel oor die basiese konsepte ten aansien van boedelbereddering.
Na bestudering van par 16.3.1.1 behoort u te kan verduidelik wat ’n boedel vir die doeleindes
van die Boedelwet is.
Bestudeer par 16.3.1.2. U moet ’n aantekening kan skryf oor die posisie van eksekuteurs.
Verduidelik hoe hulle benoem word, wat hulle bevoegdhede is en onder watter omstandighede
hulle sekerheid moet stel ten aansien van die behoorlike uitvoer van hulle pligte. Verduidelik
ook hoe hulle vergoed word. (Let daarop dat die bedrag van die brutowaarde van die boedel
ingevolge artikel 18(3) nou R250 000 beloop en nie meer slegs R125 000 nie. Wysig dus die
bedrag op p295.)
Bestudeer par 16.3.1.3 wat handel oor die posisie van die Meester en die berekening van die
meestersgelde wat ten opsigte van sekere boedels betaalbaar is.
Bestudeer par 16.3.2 oor die beredderingsproses. Maak seker dat u weet wat die verpligtinge
van die eksekuteur in al drie stadia van die proses is. U moet ook kan verduidelik wat
“gedeeltelike uitverkoping”, “algehele uitverkoping”, “oorname deur die langslewende gade” en
“herverdelingsooreenkoms” beteken en hoe hulle in die beredderingsproses gebruik word.

AKTIWITEIT
Beantwoord die volgende vrae oor boedelbereddering:
(1) Wat is die eerste stappe wat gedoen moet word nadat ’n persoon gesterf het en bates
agtergelaat het?
(2) Verskaf ’n kort oorsig van die eksekuteur se take ten aansien van bereddering van ’n
bestorwe boedel.
(3) Wat beteken die uitdrukking “likwidasiemetodes”?
(4) Wat is die vyf metodes van likwidasie? Beskryf elk kortliks.
Bostaande is slegs enkele voorbeelde van die tipe vrae wat uit hierdie studie-eenheid kan kom.
Maak seker dat u al die paragrawe leer wat ons hierbo aangedui het.

74
PVL2602/501

SAMEVATTING
In hierdie studie-eenheid het ons kortliks gekyk na hoe ’n bestorwe boedel beredder moet word.
Dit bring ons by die einde van ons studie van die basiese beginsels van die erfreg.
Ons vertrou dat u hierdie module geniet het en wens u alle sukses met die res van u studie.

75

You might also like